Die ABC van gemeentesang

Congregational singing 2

In ons gemeente beklemtoon ons die suiwer prediking van God se Woord.  Daar is egter ‘n paar gebiede waarin ons sukkel.  Gemeentesang is een van hulle.  Van ons beste musikante het na ander dorpe toe verhuis.  Ons bekwame musiek leier van 13 jaar is op die oomblik buite aksie, en sal hopelik teen Augustus weer by die groep aansluit.

 

Ons maak ook nie die gebou vol nie.  In ‘n gebou wat 160 kan sit, is ons 75 mense in die oggend en 35 in die aand; met ‘n hoë plafon voel ons dit.  En dan het ons nuwe musikante wat nou eers vir ‘n paar maande saam speel.  Daar is nóg een of twee faktore wat maak dat ons sukkel.

 

Maar hierdie probleme is die nr.1 rede hoekom ons sukkel nie.  Ons het Bybelse instruksie nodig.  Wat sê die Bybel oor samesang en hoekom is dit belangrik?  Kol.3:16 sal ons help om hierdie en ander vrae te beantwoord.

 

Die liedboek van gemeentesang

Mense verskil oor gemeentesang.  In ons gemeente is daar party mense wat van Halleluja-liedjies hou, terwyl ander die nuwe liede verkies.  In ander kerke hou sommige mense van kitare, terwyl ander die orrel verkies.  Een gemeente is kontemporêr en ‘n ander een konserwatief.  Wat is die basis waarvolgens ons moet besluit wat reg is?

 

Die Woord van Christus moet die basis van ons gemeentesang vorm.  Die feit dat dit die Woord van Christus is, impliseer dat ons liede op Hom moet fokus; dit moet Christo-sentries wees.  As ‘n ongelowige by die erediens was en tydens die preek geslaap het, moes hy êrens in een van die liede die evangelie gehoor het.

 

Christo-sentriese gemeentesang impliseer verder dat ons liede nie op die mens, sy behoeftes en sy gevoelens fokus nie.  Die liedjie wat sê:  ‘You thought of me, above all,’ fokus op die mens en nie op Jesus nie.  Dit skep die idee dat Hy ons benodig, en dat Hy nie sonder ons kan lewe nie.

 

Christo-sentriese liede weet dat Jesus ‘n Liefdevolle en Getroue Vriend is, maar sing nie asof Hy ons ‘cool pal’ is nie; dit bewonder sy groot liefde, maar sing nie asof Hy ons meisie of kêrel is nie.

 

‘Die Woord van Christus’ impliseer dat die Bybel ons liede se inhoud moet bepaal (Ps.119:54).  Wat moet ons sing?

 

  • Ons moenie net die Psalms sing nie, maar ons moet dit ook nie afskeep nie.
  • Met lofgesange moet ons die Here vir sy Persoon, karakter en dade prys.
  • In plaas van vleeslike liede, moet ons geestelike liede

 

So sal ons sing wat die Here wil hê, en nie maar net liede wat ons lekker laat voel, of liede waarmee mense gemaklik is nie.  Ons moenie bloot die ou koortjies of Hillsong se nuutste treffer wil sing, omdat dit mooi instrumente het, of omdat die wysie ‘catchy’ is nie.  Die vraag moet altyd wees:  ‘Wat sê die Bybel?’

 

Die Bybel sê bv. nié dat Jesus die Heilige Gees se Seun is nie.  Dit was ‘n tikfout in een van ons liede:  ‘Kom O Skepper Gees… Leer my van u Seun…’  Die regte woorde moet wees:  ‘Leer my van die Seun…,’ en daarom het ons dit verander.

 

Die Here wil hê ons moet Hom in waarheid aanbid (v.16, Jh.4:24).  Om bloot te sê jy is opreg is nie genoeg nie.  Ussa was opreg, en tog het God hom laat sterf, omdat hy sy eie reëls gevolg het (2 Sm.6:5-7, 2 Kron.15:2, 15, Nm.4:15, 7:8-9).  Dít is hoe ernstig die Here is dat ons Hom volgens sy Woord moet aanbid.  Maar dis nie al nie.  God wil ook hê dat ons Hom in gees moet aanbid (Jh.4:24).  Hier is wat ek bedoel.

 

Die hart van gemeentesang

Jy ken seker die storie van die man wat Psalm 23 voorgedra het, en mense se applous gewen het?  Toe hy klaar was het hy die mense in die gehoor uitgedaag om dit beter as hy op te sê.

 

‘n Ou man het dit opgesê.  Toe hy klaar was het niemand applous gegee nie; almal het gehuil.  Mense het gevra wat die verskil was.  ‘Die kunstenaar ken die Psalm; die ou man ken die Herder,’ het iemand geantwoord.

 

Net so kan ons in gemeentesang met koue harte die Bybel se reëls volg:  ons kan die Here in waarheid aanbid, sonder dat ons Hom in gees aanbid; die Woord kan in ons koppe wees, sonder dat dit in ons harte is; ons kan die woorde met ons lippe sê, sonder dat dit ons siele raak (v.16, Jh.4:24).

 

As ons dan die Here met opregte wil prys, moet ons seker maak dat ons gered is.  Jy móét besef dat jy sonder Hom meer verlore is as iemand wat in digte mis in die berge verdwaal.  Jy moet op Jesus vertrou en besef dat net Hý jou van die ewige oordeel kan red.

 

Jy moet na Hom toe uitroep as die enigste hoop om vergewe te word.  Jy moet jouself aan Hom toevertrou en glo dat die Vader sý perfekte lewe, kruisdood en opstanding in jou plek sal aanvaar.  Jy moenie meer vir jouself lewe nie, maar vir Hom.

 

En as jy dít gedoen het, kan jou lofprysing vir Hom aanneemlik wees en kan jy Hom in gees en waarheid aanbid (v.16, 1-15, Jes.1:12-18, Mt.5:23-24, 1 Tm.2:8).  Om die Here in gees te aanbid, moet sý Gees jou hart vul.  Dit kan net gebeur as jy die Boek wat deur die Gees geïnspireer is, indrink soos wat ‘n dronkaard wyn drink:  jy moet baie daarvan inneem (v.16, Ef.5:18).

 

En as jy die Woord biddend in jou hart gebêre het, sal dit vanself in aanneemlike lofprysing soos heuning van jou lippe afdrup, want wat die hart van vol is loop die mond van oor (Mt.12:34).  Doen dan moeite om jou hart en lewe met God se Woord te vul:  luister na Bybelse lering en prediking; lees, bestudeer, bepeins, memoriseer en gehoorsaam die Woord van God (Ps.1:2, 119:11, 97).

 

As jy dít doen, sal die Woord ryklik in jou woon.  Dit sal jou hart, gesindheid, denke, woorde en dade oorheers en deurweek.  Die Heilige Gees sal jou hart in ‘n tuiste vir die Woord van God omskep.

 

Dít is waaroor Geesvervulde lofprysing gaan.  Dit begin nie wanneer jy by die erediens instap nie; jou hele lewe moet met die Woord gevul wees.  Maak veral seker dat jy voor die erediens ‘n tydjie afsonder om jou hart reg te kry.  Bely jou sonde, bid vir hulp om die Woord te verstaan, dank die Here vir sy goedheid.

 

Kom dan met ‘n dankbare hart vol van blydskap na die erediens toe:  “Enter his gates with thanksgiving, and his courts with praise!” (Ps.100:4, ESV).  Moenie onvoorbereid kom soos wat die populêre lied sê nie:  ‘Come, now is the time to worship… Come, just as you are to worship.’

 

Doen alles wat jy kan om die Here uit ‘n Geesvervulde hart te prys.  Sorg dat jy jou definisie van Geesvervulde lofprysing reg het.  Dit het niks te doen met ‘n klomp mense wat in brabbeltale praat, omval, hoendervleis kry, of ‘n ekstatiese ervaring het nie.

 

Om emosioneel te raak wanneer jy sing beteken ook nie outomaties dat die Heilige Gees teenwoordig is nie.  Mense raak emosioneel wanneer hulle die volkslied by ‘n rugby wedstryd sing, of as Bobby van Jaarsveld by ‘n musiek konsert vir hulle soene blaas.

 

Emosie op sy eie kan nooit vir jou ‘n geestelike ervaring gee nie.  Daarom sing ons nie vir 90 minute totdat ons ‘n emosionele ‘high’ bereik het nie.  Ons sing ook nie ‘n reëltjie met vyf woorde vyftien keer oor, totdat ons in ‘n beswyming ingaan en beheer verloor nie.

 

Kerke wat so aanbid fokus op hulleself en nie op die Here nie.  Dit is nie die Heilige Gees en sy waarheid wat hierdie mense help om hulle emosionele ‘high’ te bereik nie, maar die oorverdowende musiek, die eindelose herhaling, die gekleurde ligte, die rookmasjien, die massas wat om hulle skreeu, en die konsert wat op die verhoog aan die gang is.  Dit lyk meer na ‘n sekulêre rock konsert as na ‘n erediens.

 

Hierdie mense sou nooit so ‘vol van die gees’ gewees het as al die ligte aan was, as dinge ordelik geskied het, as die gemeente se stemme harder was as die dromme en die kitare, as hulle net vier liede gesing het, as elke lied net een keer gesing is, en as die liede se inhoud gelaai was met soliede teologie nie.  Dit wys vir ons dat hulle emosie vleeslik opgewek is.

 

Emosie moet eerder ons reaksie op die waarheid wees.  As die Gees ons harte vul en die Woord ryklik in ons woon (v.16, Ef.5:18), sal God-verheerlikende emosies in riviere van lof oor ons lippe vloei.  Ons harte sal met liefde vir Jesus brand (Lk.24:32).  Ons sal vol van dankbare blydskap wees en die Here met lofgesange prys (v.15-17).

 

Die skool van gemeentesang

‘n Tagtig jarige tannie in ons gemeente het vir my gesê dat sy Totius se beryming van die Psalms geleer het toe sy klein was.  ‘Ek onthou dit vandag nog,’ het sy gesê.  Ons onthou God se Woord makliker as ons dit sing (Dt.31:19, 22, 30, die Psalms).  Daarom moet ons mekaar met Bybelse lofliede onderrig en vermaan (v.16).

 

Die Bybelse woorde van hierdie liede sal vir ons wysheid gee en die waarheid in ons harte vas sement (v.16, 2:3).  Omdat ons die Bybel op hierdie manier leer, sal vals woorde vir jare lank in ons koppe vassit en ons op die verkeerde pad lei.  Sing daarom die waarheid om jouself en ander van die Here te leer, om jou en hulle aan te spoor om Hom beter te volg.

 

Om mekaar goed te onderrig, moet ons weet wat ons sing.  As daar ou woorde is, moet ons dit verduidelik of verander.  Ons liede moet eenvoudig wees, maar dit hoef nie oppervlakkig te wees nie.  Dit is bv. nie verkeerd om te sing:  ‘God is so goed, God is so goed, God is so goed, Hy’s so goed vir my’ nie.

 

Maar ons kan nie net sulke koortjies sing en verwag dat ons aanbidding die hoë pieke van ‘n geestelike Berg Everest sal bereik nie.  Daarom moet ons ook liede met Bybelse substansie sing.  Ons moet bv. sing:

 

In die hemel is die Heer,

en sy glans is soos kristal.

Hy’s die heilige van God,

en Hy heers oor die heelal.

Daar is mag in sy Woord,

soos die waters druis sy stem.

Soos die son op die see se blou,

so die rykdom van sy trou…

Miljoene in gereedheid,

span die eng’le om sy troon.

Verbysterend sy sieraad,

en die weelde van sy kroon…

 

Die skool van gemeentesang vorm tot ‘n groot mate die beeld wat ons van God het.  Daarom moet ons nie vir ons kinders lawwe liedjies oor God, Verlossing, en die res van die Bybel leer nie (bv. die Bybel-liedjies wat hulle op Veggie Tales leer).

 

Ons kan nie verwag dat hulle Jes.6 se heerlike beeld van God moet hê, as ons vir hulle liedjies leer soos die een wat my kinders by ‘n kamp geleer het nie:  ‘Ek spring soos popcorn as ek vir Jesus sing, popcorn sal ek vir Jesus spring, popcorn want ek is baie bly, Jesus het gekom vir jou en my…’

 

Die melodie van gemeentesang

Die meeste mense sal vir jou sê dat die melodie nie belangrik is nie, en dat dit die woorde is wat saakmaak.  Maar mense wat films maak sal vir jou sê dat die melodie baie belangrik is.  Jy kan spanning, blydskap, hartseer, vrees, kwaad, en ander emosies deur die melodie opwek.

 

Daarom moet ons seker maak dat die melodie, die ritme en die instrumente ons lofliede se woorde komplementeer.  Dit moenie die aandag van die woorde af wegvat of daarmee bots nie.  Ons moenie méér beïndruk wees met die wysie as met die God van wie ons sing nie.  En tog moet die musiek ook pragtig wees en iets wys van die God wat dit gemaak het.

 

Ons het ‘n oulike CD vir kinders wat vir hulle Bybelversies leer.  Maar daar is een lied waarvan ek nie hou nie, omdat die melodie die woorde weerspreek.  Die woorde is aangehaal uit die laaste deel van 2 Kor.9:7:  “God loves a cheerful giver.” (ESV).  Maar wanneer die kinders die liedjie sing, sê hulle:  ‘God loves a cheerful giver, ha-ha-ha-ha-ha…’

 

Die vers gaan glad nie oor iemand wat uit sy maag uit lag wanneer hy vir die Here se werk bydra nie.  Ek het nog nooit gesien dat iemand in ons gemeente dit doen nie, en dink dat hierdie liedjie se melodie met die woorde bots.

 

Wanneer ons saam sing kan ons ook nie ‘n opgeruimde melodie hê wanneer ons oor God se oordele sing, of wanneer ons ons sondes bely nie.  Maar ons kan ook nie ‘n droewige melodie hê as ons die Here vir sy wonderlike verlossing prys nie.  ‘Joy to the World’ moet daarom ‘n ‘Joy to the World’ tipe melodie hê.

 

Na my mening is daar ‘n paar skrywers wat hierdie kuns bemeester het.  As jy van ouer musiek hou, is niemand beter as Isaac Watts en Charles Wesley nie.  As jy hedendaagse gemeentesang verkies, is die Getty’s, Stuart Townend en Bob Kauflin goed.  Ek dink dat Hillsong en Jesus Culture nie die beginsels volg wat ek hierbo genoem het nie.[1]

 

As gelowiges vermy ons sekere style, omdat die wêreld dit gebruik om hulle immorele en goddelose agenda te dryf.  Heavy Metal word bv. gebruik om die werke van duisternis te propageer, en dus is dit nie genoeg om net die vieslike woorde te verander nie.  Die boodskap lê nie net in die woorde nie, maar in die styl.  ‘n Mens kan dus nie ‘n melodie gebruik wat die werke van die duisternis bevorder om Jesus se die lig mee te verkondig nie.  Dt.12:4, 30-31 sê dat ons nie die wêreld se metodes moet gebruik om die Here te aanbid nie.

 

‘Soos in die eerste duisend of meer jaar van die kerk se geskiedenis, behoort ons glad nie eers instrumente te gebruik nie,’ sal ‘n baie konserwatiewe gelowige vir jou sê.[2]  Persoonlik dink ek dat die vroeë kerk verkeerd was.

 

Volgens Paulus moet ons Psalms sing (v.16), en in Ef.5:19 sê hy dat ons dit met melodieë moet doen [Gk. psallō].  Die Griekse woord praat letterlik van iemand wat ‘n snaarinstrument pluk.  En as ons Psalms moet sing, sê Ps.150 dat ons die Here met allerhande instrumente moet prys.  Talle van die Psalms se opskrifte sê ook dat die lied met ‘n instrument begelei moet word.

 

Maar in dieselfde asem is dit nodig om te sê dat die instrumente nie die mense se stemme moet uitdoof nie.  Ons harte en stemme moet die hoof instrumente wees waarmee ons die Here loof en dank.

 

Die cresendo van gemeentesang

Cresendo beteken hoogtepunt of klimaks.  Volgens v.16 is God en sy heerlikheid die cresendo of klimaks van ons gemeentesang.  God het ons geskep en gered om Hom te verheerlik (Jes.43:7, 21, 1 Kor.10:31, 2 Kor.5:9, 15, Ef.1:6, 12, 14).

 

Dit is ook die rede hoekom ons nie soos Moslems, Hindoes en mense van ander godsdienste is nie – ons sing.  Dit kan nie anders nie.  God het ons oë oopgemaak om sy heerlikheid te sien; ons is bly dat Hy ons gered het.  Om dan nié die Here met lofliede te prys nie, is erger as moord en verkragting.

 

Gemeentesang is egter nie die enigste manier hoe ons die Here aanbid nie.  Ek ken ‘n ds. wat by ‘n ander gemeente gaan preek het.  Toe hulle klaar gesing het, het die musikante agter in die kerk op hulle steitjies gaan sit om te slaap.  Hy het voor die hele kerk vir hulle gesê:  ‘Gemeentesang is nie die enigste deel van aanbidding nie; Bybelse prediking is ook aanbidding – sit regop.’

 

‘n Vrou het eenkeer vir my gesê:  ‘As die musiek goed was, gee ek nie om of die preek sleg is nie.’

 

Die ds. in die eerste storie was reg, en die vrou in die tweede een verkeerd.  Ons moet die ABC van gemeentesang ken, sodat ons die Here met opregte harte kan prys.  Ons moet egter nie dink dat gemeentesang die A-Z van aanbidding is nie.  Om die Here reg te aanbid moet jy jou lewe aan Hom toewy (v.17, Rm.12:1).

 

[1] Lees gerus die drie artikels oor ‘The Gospel According to Hillsong’ by http://www.gty.org

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.68-69; Part 2, pp.169-171; Part 3, pp.229-230.

Advertisements

‘n Visioen van die hemel

Open door in heaven

Waaraan dink jy as jy aan die hemel dink? Wat is die eerste ding wat in jou gedagtes opkom?  ‘n Wasige en mistige beeld van engele met wit klere en vlerke?  ‘n Helder wit lig, sodat jy nie eintlik baie kan sien nie?  Mense wat vlerke het, op sagte wolke sit en op goue harpe speel?  ‘n Reuse familie-saamtrek wanneer jy jou afgestorwe familie en vriende sien?  Jesus met wit klere wat op ‘n goue troon sit?  ‘n Stad wat van suiwer goud gemaak is?  In Op.4:1-11 het ons ‘n akkurate beeld van wat eintlik in die hemel aangaan.

 

Wat het Johannes gesien? (v.1-8a)

Hoeveel Bybelkarakters het die hemel gesien voordat hulle dood is? Drie.  Wie was hulle?  Stefanus (Hd.7:55-56), Paulus (2 Kor.12:1-4), Johannes (Openbaring).  Tog is daar vandag baie charismate wat sê dat hulle hemel toe was en weer teruggekom het.  Paulus het sy hemelse ervaring stilgehou vir 14 jaar.  Wanneer jy egter na die charismate kyk, verkoop hulle boeke en DVD’s om geld te maak uit hulle ervarings.

 

Wat is die eerste ding wat Johannes in sy visioen gesien het? Die troon.  Die troon was sentraal.  Daar was allerhande wesens en aktiwiteite rondom die troon.  Twaalf keer in hierdie hoofstuk verwys Johannes na die troon.  Uit die 54 keer wat die woord ‘troon’ in die Nuwe Testament voorkom, is 42 in die boek Openbaring.

 

In moderne visioene van die hemel is die heilige God en sy troon nie sentraal nie – die mense en hulle ervarings is. Wanneer hulle wel van die Here praat, gebruik hulle nie vergelykings soos wat Johannes in v.3 gedoen het nie, maar hulle sê dat God blou is, dat Jesus ‘n bietjie oor die ses voet is, dat hulle saam met Jesus in die rivier van die lewe geswem het, ens.

 

In een getuienis sê die man dat hy helder ligte gesien het wat hom baie rustig en gelukkig laat voel het. Maande later het hy die Here begin dien.  Daar was nie sprake van bekering, geloof, Jesus se kruisdood of wedergeboorte nie.

 

Die mense wat daarin roem dat hulle hemel toe was se stories bots, wat weereens wys dat ons dit met ‘n knippie sout moet neem. Ook die feit dat hulle visioene nie teen Op.4-5 opmeet nie, wys vir ons dat daar ‘n slang in die gras is.  Kom ons bekyk Johannes se visioen van nader.  Wat het hy daar gesien?

 

[1] ‘n Oop deur (v.1). Deur sy kruisdood het Jesus die hemel se deur oopgemaak vir dié wat in Hom glo (v.1, 3:7-8, Mt.27:51, Jh.10:7, Heb.10:19-22).  Sy stem het soos ‘n trompet na Johannes toe geroep en hom genooi om in die hemel in te kom (v.1, 1:10, Eks.19:19-20).  Hy wou vir hom dinge gewys het wat volgens God se raadsplan in die nabye en verre toekoms moes plaasvind (v.1, 1:19, 1, 3, 22:6).

 

[2] God op die troon (v.2-3). Die Heilige Gees het hierdie visioen vir Johannes gewys (v.2, 1:10, Esg.8:3).  Voor enigiets anders het Johannes vir God op die troon gesien (v.2).  Die sentrale plek van die troon in hfst.4-5 wys vir ons dat God in beheer is, selfs wanneer dit in hfst.6 e.v. lyk of die kerk se vyande die laaste sê het (Dn.4:34-37, Ps.103:19, Jh.19:11).  Die hemelse hof het gereed gesit om hierdie vyande te oordeel (Dn.7:9-10).

 

Die Een wat op die troon gesit het, kon nie in menslike taal beskryf word nie, en daarom het Johannes vergelykings gebruik (v.3, 2 Kor.12:4). Hy het die rooi en rooi-oranje glans van jaspis en sardius edelstene gesien (v.3, 21:11, 18-20, Eks.28:17-21).  God se rykdom, skoonheid en majesteit was duidelik sigbaar.  Die reënboog rondom die troon het die glans van ‘n groen smaragsteen gehad (v.3, Esg.1:26-28) om te wys dat God, te midde van sy oordele, nogsteeds genadig is (Gn.9:12-17, Hab.3:2).

 

[3] Vier-en-twintig ouderlinge (v.4). Rondom die troon was daar 24 ander trone.  Party dink dat hulle die somtotaal van Israel se 12 stamme en die 12 apostels is, sodat hulle al God se kinders uit die Ou- en Nuwe Testamente voorstel (21:12-14).  Net soos wat Dawid die priesters in 24 groepe ingedeel het (1 Kron.24), is hier 24 ouderlinge.  Soos konings sit hulle op trone met goue krone op hulle koppe, en soos priesters het hulle wit klere aan om te wys dat hulle rein is (v.4, 3:4-5, 18, 21, 5:10, 6:11, 19:8, 20:4, 6, 1 Pt.2:9).

 

Maar in 7:9, 13-14 het die gelowiges wit klere aan, en word hulle van die ouderlinge onderskei. Om hierdie rede dink sommige dat die ouderlinge op hulle trone eintlik ‘n rangorde van engele is (Ef.1:21, 3:10, Kol.1:16, 1 Pt.3:22).

 

[4] ‘n Storm (v.5a). Weerlig en die gedreun van donderweer het gewys dat die storm van God se oordeel binnekort oor die kerk se vyande sou losbreek (v.5a, 8:5, 16:18).  In Eks.19:16 was daar weerlig en donderweer voordat God die ou verbond ingestel het.  In v.5a was daar weerlig en donderweer voordat God die tempel en die ou verbond finaal vernietig het om die nuwe verbond te vestig (Heb.8:13, 12:18-29).

 

[5] Die sewe Geeste (v.5b, 1:4, 3:1). Johannes het nie geglo dat daar sewe Heilige Geeste is nie (Jh.14:16-17), maar het probeer om te wys dat Hy die sewevoudige of volmaakte Gees van God is (Jes.11:2).  Die sewe gemeentes word met sewe kandelare vergelyk (1:19).  Die Heilige Gees is die vlam wat hierdie kandelare met sy Woord aansteek (1:19, 2:7, 11, 17, 29, 3:6, 13, 22).  Juis daarom word Hy met sewe vakkels vergelyk (v.5b, Hd.2:3).

 

[6] ‘n See van glas (v.6a, Eks.24:10, Esg.1:22). Die see was so helder soos kristal (v.6a, 21:18, 21), en het gelyk of dit met vuur gemeng is (15:2).  Deursigtige glas in Johannes se tyd was onbekostigbaar duur.  Volgens een legende het koning Salomo vloerwerk van deursigtige glas voor sy troon gehad.  Toe die koningin van Skeba dit sien het sy haar rok opgetel, omdat sy gedink het dit is water.[1]  Die verwysing na ‘n see van glas sê iets van God se rykdom.

 

Dit mag ook wees dat die see dieselfde is as die tempel se ‘see’ waarin die priesters hulleself gereinig het (1 Kon.7:23-26, 2 Kron.4:6). Indien dit die bedoeling is, dan wys v.6a dat ons rein moet wees voordat ons na God toe kan kom.

 

[7] Vier lewende wesens (v.6b-8a). Met enkele verskille word hierdie wesens ook in Esg.1 en 10 beskryf.  Dáár word hulle gerubs genoem.  Net soos wat hulle die boom van die lewe en die ark beskerm het (Gn.3:24, Eks.25:18), het hulle in v.6b die troon omring en beskerm.  Hulle is nie heeltemal dieselfde as engele nie (7:11).  Hulle baie oë (v.6, 8, Esg.1:18, 10:12) wys dat hulle baie dinge sien en weet.  Hulle is nie alwetend soos God nie, maar weet baie meer as mense.

 

Die eerste wese het soos ‘n leeu gelyk, om te wys dat gerubs sterk is (v.7). Die tweede een soos ‘n kalf of os het gewys dat hulle diensbaar is.  Die derde een soos ‘n mens het gewys dat hulle rasioneel en intelligent is.  Die vierde een soos ‘n arend het gewys dat hulle flink is om God se bevele uit te voer.

 

Soos die vlammende serafs in Jes.6:2, het die lewende wesens ses vlerke gehad (v.8). Voordat God Jerusalem en die tempel in 586 v.C. deur die Babiloniërs verwoes het, het Esegiël hierdie wesens rondom die troon gesien.  En voordat God Jerusalem en die tempel in 70 n.C. deur die Romeine verwoes het, het Johannes ‘n soortgelyke visioen gesien.

 

Wat het Johannes gehoor? (v.8b-11)

Koos is ‘n doodgewone Suid-Afrikaanse boerseun uit die Vrystaat. Tydens sy oorsese vakansie in Europa het hy vir Angelina ontmoet.  Sy kom van Italië af en is die mooiste vrou wat hy in sy lewe gesien het.  Toe hy van sy vakansie af teruggekeer het, het hy gereeld vir haar geskryf.  Hy kon nie ophou om vir haar te sê hoe mooi sy is nie.  Van die môre tot die aand het hy vir ander mense van haar vertel, na ‘n foto van haar gekyk, en vir haar gesê dat sy die mooiste vrou in die wêreld is.

 

As Koos stomgeslaan is oor Angelina se skoonheid, en sy maar net ‘n skepsel is wat gaan oud word en doodgaan, wat sal jy nie sê wanneer jy die Here sien nie? Jy sal nie anders kan as om Hom te bewonder nie (2 Ts.1:10).  Sy heerlikheid en skoonheid is iets wat jy jou nie kan indink nie.  Wanneer jy dit sien sal jy verstaan hoekom die hemelse wesens in v.8b-11 nie anders kon as om Hom aanhoudend te prys nie.

 

[1] Die lewende wesens se lof (v.8b-9). Buiten dat hulle die troon beskerm het (v.6b), was dit hulle taak om die Here te prys (v.8, 5:8, 11-12, 14, 19:4) en sy oordele oor die aarde te roep (6:1-8, 15:7).  Soos die serafs in Jes.6:3, het hulle dag en nag uitgeroep dat God heilig, heilig, heilig is (v.8b).  Die lewende wesens kon beskryf word (v.7), maar die Here is uniek en afgesonder.  Sy heerlike glans kon beskryf word (v.3), maar in sy wese kon Johannes Hom nie beskryf nie.

 

Die ware mag het nie by die duiwel of die keiser van Rome gelê nie, maar by die soewereine, almagtige en heilige God (v.8b). Hy was, is en kom (v.8b, 1:4, 8).  Hy is onveranderlik, en sal weer kom om die wêreld te oordeel (v.8b).  Sy glansryke heerlikheid het die lewende wesens verblind, sodat hulle Hom vir sy heiligheid, ewigheid en soewereine heerskappy geëer en gedank het (v.9, Jes.6:2-3).

 

[2] Die ouderlinge se lof (v.10-11). Toe die lewende wesens God geprys het (v.8-9), het die ouderlinge ook in aanbidding voor Hom neergeval (v.10, 5:8-14, 11:16, 19:4).  Deur hulle goue krone (v.4) voor sy troon neer te werp, het hulle erken dat hulle heerskappy en gesag van Hom af kom (v.10).  Hulle het Hom geprys omdat net Hý waardig is (v.11, 5:2-4, 9).  Die heerlikheid, eer en krag is syne, omdat Hy die hemel, die aarde, die see en alles daarin gemaak het (v.11, Gn.1, Jh.1:2-3, Kol.1:16).  Dit het Hy nie gedoen omdat Hy eensaam of verveeld was nie.  Hy het dit vir sy eie eer, plesier, en volgens die raad van sy soewereine wil gedoen (v.11, Ef.1:11, Kol.1:17).

 

Indien jy iets oor die hemel wil weet hoef jy dit nie in mense se ervarings te soek nie. Jy kan dit uit Op.4-5, 21-22 kry.  Op.4-5 praat oor die hemel soos wat dit tans is, terwyl Op.21-22 die hemel of nuwe aarde ná Jesus se wederkoms beskryf.  Moet asseblief nie mense se ervarings bo die Bybel glo, sodat dít jou teologie van die hemel bepaal nie.  Jy moet aanvaar dat die Bybel alles sê wat jy nóú oor die hemel moet weet.

 

Vir nou wil ek net op Op.4 fokus. In hierdie hoofstuk leer ons dat God se troon oor alles en almal regeer.  Sy troon is sentraal.  ‘n Paar weke gelede was ek moedeloos oor die toestand van ons land en wêreld.  En as ek so voel, wonder ek hoe die Christene in Sirië en Saudi-Arabië moet voel.  Op.4 is daar om ons te bemoedig.  As jy Op.6-19 uit ‘n aardse perspektief lees, lyk dit of die duiwel, bose mense, en ‘moeder’ natuur soewerein is.  Maar as ons hierdie hoofstukke uit ‘n hemelse perspektief in die lig van hfst.4-5 lees, sien ons dat God op die troon is, en dat Hý in beheer is van alles.

 

God is in beheer wanneer dit lyk of die regering ons land in die afgrond inry. God is in beheer wanneer ons onseker is oor die toekoms.  God is in beheer wanneer Christene in die weste uitgelag word, en wanneer Christene in die ooste doodgemaak word.  God is in beheer wanneer evolusie, aborsie, gay huwelike, immoraliteit, terrorisme, misdaad, korrupsie, vals godsdienste, en onverdraagsaamheid teenoor Christene en die Bybel hoogty vier.

 

God is in beheer wanneer daar aardbewings, tsunamis, tornados, vloede en droogtes is. God is in beheer wanneer daar bose leiers is wat die wêreld wil oorneem.  God is in beheer wanneer die ekonomie op sy neus duik.  God is in beheer wanneer daar siektes uitbreek.  God is in beheer wanneer nasies teen mekaar oorlog voer.  God is in beheer wanneer mense doodgaan.  God is in beheer wanneer die regering vir Christene wil voorskryf wat hulle mag en nie mag doen nie, sodat die kerk onderdruk word.

 

Op.4 leer ook vir ons dat die hemel oor God se heerlikheid, heiligheid, skoonheid en majesteit gaan. Dit gaan nie hoofsaaklik oor ‘n lekker plek waar ons weer ons geliefdes gaan sien nie.  Dit is deel van die vreugde, maar primêr gaan dit oor die Here.  Die Puriteine het gesê:  ‘Without Christ, heaven would be hell to me.’

 

As jy nie ‘n aptyt vir God se heerlikheid het nie, dan verstaan jy dit nie. Jy moet onthou dat jou gunsteling dinge in die skepping (lekker kos, asemrowende natuur tonele, pragtige musiek, ryk vriendskappe, lieflike geure en aromas, kleure, ‘n warm bad), maar net ‘n skaduwee van God se heerlikheid is.  Moet dan nie net hemel toe wil gaan omdat jy nie hel toe wil gaan nie, maar omdat jy die volheid van God se heerlikheid wil ervaar en geniet (Jh.17:24).

 

Leer ook asseblief dat daar ‘n duidelike onderskeid tussen mense en hemelse wesens is. Juanita du Plessis sing mooi, maar moet asseblief nie jou teologie oor die hemel by haar leer nie.  Haar liedjie In die hemel sê:  ‘Ek is nou in die hemel… Nou is ek die engel wat sy vlerke om jou hou’.  Jy word nie ‘n engel wanneer jy doodgaan nie.  Jy bly ‘n mens.  Engele is nie mense nie, en mense is nie engele nie.

 

Onthou ook dat Op.4 nie die finale hemel beskryf nie. Wanneer jy doodgaan bly jou liggaam agter en is jou siel volmaak (2 Kor.5:8, Heb.12:22-23).  Eers wanneer Jesus weer kom kry jy jou verheerlikte liggaam (1 Kor.15:35-55).  Dan sal die nuwe Jerusalem uit die hemel uit neerdaal, en sal Jesus die aarde nuut maak (Op.21).  As jy dus hemel toe gaan is dit nie die einde nie; daar is nog iets wat voorlê, iets om na uit te sien.  Op.4-5 is nie die einde nie.  Ons wag nog vir Op.21-22.  In die woorde van Douglas Wilson:  ‘Heaven is not my home, I’m just a passing through.’

 

Daar is ook ‘n les oor aanbidding in hierdie en die volgende hoofstuk. As sondelose hemelse wesens God aanbid en op hulle gesigte val wanneer hulle sy heerlikheid sien, kan ons nie laf wees wanneer ons die Here aanbid nie.  Wanneer ek Op.4-5 lees, verstaan ek nie hoe mense op en af spring, skreeu en soos Hindoes omval wanneer hulle die Here aanbid nie.  Ek verstaan nie hoe hulle liedjies sing wat dit laat klink asof die Here hulle kêrel of speelmaat is nie.  God is heilig.  Laat ons Hom dan met vrees, liefde, blydskap en eerbied aanbid (v.8b-11, Ps.2:11, Heb.12:28-29).

 

Vir nou is die belangrikste om seker te wees jy is oppad hemel toe. Moenie tevrede wees dat jy hemel toe gaan, omdat jy opreg is, in God glo, reg probeer lewe, gereeld bid, jou bes probeer en hoop vir die beste, of omdat jy goeie werke doen nie.  God het ‘n afsku daarin dat jy dink jy is goed genoeg om in sy heilige teenwoordigheid in te kom.  Selfs as jy net een sonde op jou rekord het, sal God jou nie in die hemel toelaat nie.  Jou leuens, hoogmoed, oneerlikheid, diefstal, selfsug, bitterheid, wellus, losbandigheid, verslawing, rebelsheid, skynheiligheid, bakleiery, jaloesie, kort humeur, eet totdat jy siek is, afgodery, begeerte om altyd eerste te wees, haat, begeerlikheid, roekeloosheid, en ander sondes is vir Hom afskuwelik.

 

Sê vir die Here dankie dat Hy bereid was om die straf vir jou sondige natuur, karakter en dade op Homself te neem aan die kruis. Vertrou dat net Hý jou sondige rekord kan skoonvee, en dat Hy die perfekte rekord van sy gehoorsaamheid vir jou sal gee as jy in Hom glo.  Bekeer jou van jou sonde en moenie op jouself, jou werke of enigiets anders staatmaak nie.  Jesus is jou enigste hoop om in die hemel te kom.  Vertrou op Hom – jy sal nie spyt wees nie.

 

Louis Brittz is nie my gunsteling sanger nie. Ek dink egter dat sy beskrywing van die hemel Bybels en akkuraat is:

In die hemel is die Heer

En Sy glans is soos kristal

Hy’s die Heilige van God

en Hy heers oor die heelal

Daar is mag in Sy woord

Soos die waters druis Sy stem

Soos die son op die see se blou

So die rykdom van Sy trou

En aan U is die mag

en die heerlikheid en krag

En aan U is die eer

en die lof want U regeer

Miljoene in gereedheid

Span die eng’le om Sy troon

Verbysterend Sy sieraad

en weelde van Sy kroon

Driemaal heilig is die Heer,

Hy wat was en is en kom.

Hy’s die Alfa en Omega,

Almagtig en verhewe

Aan Hom wat op die troon sit,

en aan die Lam,

die heerlikheid en lof

van nou af en vir ewig

U regeer in ons harte

U regeer oor die heelal

U regeer in ons lewens

U regeer bowenal

 

[1] Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.89

Hoe moet jy reageer op jou redding?

Upstream

As iemand op iets versot is, dan sê ons dat hy dit eet, drink en slaap: sport, karre, tuinmaak, meisies, diere, rekenaars, fietsry, of watookal anders.  Volgens Paulus in Rm.12:1 moet elke Christen die aanbidding van God eet, drink en slaap.  Dit moet vir hom alles wees.  Dit moet die bril wees waardeur hy na die lewe kyk.

 

Verstaan dit

Ek is seker dat baie van my hoorders en lesers die film Fireproof gesien het.  Dit gaan basies oor ‘n huwelik wat uitmekaar uit val.  Die man en vrou baklei aanhoudend.  Die vrou se hart raak koud, sodat sy niks meer vir haar man voel nie.

 

‘n Sekere dokter wat saam met haar by die hospitaal werk wen haar hart deur vriendelik met haar te wees. Hy hoor dat haar ma ‘n beroerte gehad het, en dra dan $300 by vir die spesiale bed en rolstoel wat sy nodig het (die bed en rolstoel kos $24 300).

 

Die ontvangsdame sê vir die vrou dat ‘n sekere man daar aangekom het om hiervoor te betaal. Die vrou neem aan dat dit die dokter is, en sê dan vir hom watse goeie man hy is (vgl. Hos.2:5, 8).  Hy sê vir haar dat dit glad nie moeite was om iemand so spesiaal soos sý te help nie.

 

Êrens in die film kom die man tot bekering. Hy begin om anders teenoor sy vrou op te tree.  Sy merk dit op en weet nie hoekom hy verander het nie.  Hy sê vir haar dat die Here hom gered het, bely dat hy teen haar gesondig het, en vra mooi dat sy hom moet vergewe.  Sy sê dat sy tyd nodig het om daaroor te dink.  En dan kom die keerpunt.

 

Die vrou gaan hospitaal toe om linne vir haar ma se nuwe bed te koop. Die gesprek het so iets geklink:

 

Vrou: Dis net die linne waarvoor die dokter nie betaal het toe hy my ma se nuwe bed en rolstoel gekoop het nie.

 

Ontvangsdame: Die dokter?  Hý het dit nie betaal nie.

 

Vrou: Nee, hy het; ek het met hom daaroor gepraat.

 

Ontvangsdame: Nee, die dokter het net $300 van die totale bedrag betaal.

 

Vrou: Wie het dan die res van die geld gegee?

 

Ontvangsdame: Jou man.  Hy het twee weke gelede gebel en $24 000 betaal (die geld wat hy opgespaar het om vir hom ‘n nuwe boot te koop).

 

Hierdie nuus het die vrou se hart gesmelt. Sy het teruggegaan na haar man toe, en gesê dat sy dinge met hom en met die Here wil regmaak.

 

Toe sy gedink het dat die dokter die geld betaal het, het sy nie in liefde teenoor haar man gereageer nie. Maar toe sy tot die besef kom dat haar man die geld betaal het, het sy in liefde gereageer.

 

Jy moet God se groot ontferming in verlossing verstaan, voordat jy in liefdevolle en dankbare toewyding sal reageer.  Is dit nie wat die ‘dan’ of ‘daarom’ in v.1 beteken nie?  Dit is asof die apostel sê:  ‘Omdat jy dan die verlossing van hfst.1-11 ervaar het, moet jy jouself aan die Here toewy en volgens hfst.12 e.v. lewe.’  Anders gestel:  “Ek vermaan julle… by die ontferminge van God [hfst.1-11], dat julle jul liggame stel [hfst.12-16]…” (v.1).

 

Die persoon wat nie volgens v.1 en die res van hfst.12-16 lewe nie, het nog nie eintlik hfst.1-11 verstaan en ervaar nie. Laat my toe om dit vir jou te verduidelik, sodat jy op ‘n gepaste wyse kan reageer.

 

Alle mense weet dat God die wêreld geskep het (1:20). Olifante en donderstorms bewys sy krag (1:20).  Die uniekheid van die mens is ‘n refleksie van sy beeld (1:20).  Sonskyn en reën wys vir ons dat Hy goed is.  ‘n Swaeltjie se migrasie-sisteem sê vir ons dat Hy wys is.  Die simmetrie van ‘n blaar en die orde van ‘n bye nes wys iets van die Skepper se netheid en orde.

 

Tog lewe mense in afgodery, seksuele wellus, homoseksualiteit, jaloesie, moord, twis, leuens, kwaadpratery, hoogmoed, disrespek vir gesag, roekeloosheid, ontrouheid en baie ander sondes, asof daar nie ‘n God is nie (1:18-32). God se wet en ons gewetens sê vir ons dat dit verkeerd is om so te lewe (2:14-15).

 

Dié wie Bybels het is nie veel beter af nie, want alhoewel hulle God se wil ken, doen hulle dit nie (2:1).  Hulle is skynheilig, omdat hulle vir ander sê om nie te steel en egbreuk te pleeg nie, terwyl hulle dit self doen (2:21-22).  Hulle roem daarin dat hulle moreel en godsdienstig is (2:17-20), maar diep in hulle harte is hulle boos (3:10-18).

 

Omdat ons só teen God gesondig het, verdien ons om geoordeel te word (3:19). Maar uit sy liefde vir sondaars het Hy aarde toe gekom om namens ons die wet volmaak te onderhou, en daarna die straf te kry asof dit Hý is wat hierdie lelike dinge gedoen het (3:25).  A.g.v. ons sonde het die Vader die swaard van sy toorn getrek om die Seun te deurboor (Jes.53:4-6, 10).

 

Sy ontferming oor hulpelose en verlore sondaars het gemaak dat Hy bereid was om bloed te sweet en benoud te wees, om verlaat, gevloek, geslaan, gespot, verneder, gekruisig en gestraf te word. In sy dood was Hy bereid om die beker van God se toorn te drink (die beker wat vir ons bedoel was), sodat Hy aan die kruis uitgeroep het:  “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mt.27:46).

 

In sy groot ontferming het God ons deur geloof in sy Seun regverdig en onskuldig verklaar (3:21-4:25). Op grond van Jesus se kruisdood het Hy ons sonde vergewe, sodat ons nie meer ‘n skuldige rekord voor die Vader het nie.  Hy het ons vrygemaak, sodat die sonde nie meer ons baas is nie (6:1-7:6).  Hy het sy Gees in ons harte gegee, sodat ons nou instaat is om ‘nee’ te sê vir sonde (8:7-9, 13).

 

Die Gees tree ook vir ons in, werk alles uit tot ons voordeel, maak ons soos Jesus, en help ons om die volle skopus van God se verlossing te ervaar: uitverkiesing, voorbeskikking om soos Jesus te wees, roeping, weergeboorte, geloof en bekering, regverdigmaking, aanneming tot kinders, vergifnis, heiligmaking, verheerliking, die ewige lewe (hfst.3-11).  Ons aanbid die God van ontferminge (2 Kor.1:3).  Sy ontferminge, medelye, barmhartighede, goedertierenhede, en deernis is inderdaad oorvloedig, veelvoudig en sonder einde (v.1, Klg.3:22).

 

Leef dit

Toe ek 18 was het ek saam met ‘n Ou Apostel gewerk. Sy het eendag vir my gesê dat die mens se liggaam niks is nie, en dat die siel alleen belangrik is.  Juis daarom het dit vir haar nie saakgemaak of sy rook, vloek, dronk word, en rondslaap nie.

 

Hierdie idee kom van die Grieke af. In hulle gedagtes was die liggaam net ‘n hok waarin die siel vasgevang was.  Wat ‘n mens met die hok doen maak nie saak nie; solank die voëltjie wat binne die hok is mooi sing.  Volgens Paulus is dit nie hoe Christene dink nie.

 

Jesus het gesterf om jou siel en jou liggaam te verlos (v.1-2, 6:12-13, 19, Lk.10:27).  Jou liggaam is nie joune om daarmee te maak wat jy wil nie, maar dit behoort aan die Here (v.1, 1 Kor.6:19-20).  As jy dit vir jouself gebruik, dan steel jy wat geregtiglik aan God behoort.

 

Voorheen het ons ons liggame gebruik om teen die Here te sondig (3:13-18, Sp.6:16-19). Ons tonge het gelieg, gelaster, gevloek, en geskinder.  Ons oë en ore het na lelike dinge gekyk en geluister.  Ons hande het gesteel, geslaan, moord gepleeg, en lelike tekens vir mense gewys.  Ons voete het na plekke toe gehardloop waar ons nie veronderstel was om te wees nie.  Ons het ons liggame gebruik om losbandig en verslaaf te wees.

 

Noudat die Here ons gered het, moet ons ons liggame as ‘n heilige offer voor Hom stel (net soos wat Jesus dit gedoen het, vgl. Heb.10:5). In ons lewe en dood moet ons die Here met ons liggame verheerlik (Fil.1:20).  Ons lippe en tonge moet Hom prys (Heb.13:15), ander bemoedig, die evangelie verkondig, bid, en ander mense opbou.  Ons ore moet na sy Woord luister.

 

Ons oë moet die skepping geniet, sy Woord te lees, en uitkyk vir ander mense se behoeftes. Ons hande moet uitdeel (Heb.13:16) en dié wat swaarkry met deernis aanraak.  Ons voete moet na ons huise, gemeentes, en plekke toe loop waar ons ander kan dien.  Ons liggame moet rein wees en die kos geniet wat die Here vir ons gee.

 

Paulus sê eksplisiet dat ons ons liggame as ‘n lewende offer vir die Here moet gee.  In die Ou Testament moes hulle die dooie offers van skape, bokke en beeste bring.  Jesus het Homself in sy dood aan die Vader geoffer.  Maar Hy het weer opgestaan.  Omdat ons saam met Hom gesterf het en opgewek is (6:3-4, 6, 8), moet ons ons liggame as ‘n lewende offer vir die Here gee (v.1).  Ons moet ons lewens aan Hom wy.  Moet dan nie net ‘n offer vir die Here gee nie, maar wees een.[1]

 

Ek het reeds gesê dat ons liggame ‘n heilige offer moet wees (v.1).  Om heilig te wees beteken dat jy jouself van die wêreld afsonder om vir die Here te lewe (v.2, 1 Jh.2:15-16).  Ons moet anders as die wêreld dink en doen (v.1-2).  Ons moet anders wees in hoe ons mekaar dien (v.3-8), in wat ons haat en liefhet (v.9), in dit waarvoor ons ywerig is (v.11), in die manier waarop ons swaarkry hanteer (v.12), in die wyse waarop ons ons geld en besittings gebruik (v.13), in ons optrede teenoor ons vyande (v.14-21), in ons houding teenoor die regering en die wette wat hulle daarstel (13:1-7), in die manier waarop ons saamwerk met dié wat nie op elke punt met ons saamstem nie (hfst.14-15), ens.

 

Net dié wat só lewe kan vir die Here aanneemlik wees (v.1). Dié wat onheilig is, is vir die Here soos ‘n blinde of ‘n gebreklike lam – Hy soek dit nie.  Hy wil hê dat ons deur Jesus se volmaakte offer gereinig moet wees, en dat ons deur die krag van die Heilige Gees soos Jesus moet lewe (1 Jh.1:7, 2:6).  Soos alles in die skepping, moet ook ons nuwe lewe uit Hom, deur Hom en tot Hom wees (11:36).

 

Om jou liggaam en jou hele self só aan die Here te wy is mos net redelik, rasioneel en logies [v.1, Gk. logikos].  Om in ongehoorsaamheid te lewe nadat die Here jou gered het, is onredelik en ondankbaar.  Volgens die Griekse teks sê Paulus ook dat jy jou liggaam as ‘n ‘geestelike’ offer vir die Here moet gee (in kontras met fisiese offers van die Ou Testament).  Die implikasie is dat jy nie ‘n geestelike lewe en ‘n gewone lewe het nie, en dat Christenskap nie ‘n deel van jou lewe is nie.  Jou hele lewe is geestelik; Christenskap is jou lewe.

 

Dít is ware godsdiens of aanbidding (v.1, Gk. latreia).  Die ware gelowige dien nie maar net die Here vir ‘n uur of twee op ‘n Sondag, of met ‘n tiende van sy inkomste nie.  Vir hom is aanbidding nooit minder as ‘n erediens, die samekoms van die gelowiges, lofgesange, die sakramente of ordinansies, die Woord van God en gebed nie.  Maar dit is baie meer as dit.

 

Sy lewe en alles wat hy het behoort 24 uur per dag, 7 dae ‘n week aan die Here. Alles wat hy doen is godsdiens of aanbidding (v.1).  Sulke alledaagse dinge soos eet en drink doen hy om die Here te verheerlik (1 Kor.10:31).  Hy besef dat ook ‘n eerlike transaksie, goeie maniere op die pad, gehoorsaamheid aan jou ouers, harde werk, vredevolle verhoudings, skottelgoed was en met jou kinders speel aanbidding is.

 

Wel, dit is hoe dit behoort te wees. Dit kan nie anders as ons die ontferminge van God se groot en ryk verlossing verstaan en ervaar het nie (v.1).  ‘Love so amazing, so divine, demands my soul, my life, my all.’ (Isaac Watts).  Saam met Paulus wil ek jou nader roep [Gk. parakaleo], jou smeek, by jou pleit en jou vermaan om jouself en jou liggaam só vir die Here te gee (v.1).

 

Ek het onlangs ‘n bespreking oor die eindtyd op YouTube gekyk. Een van die sprekers het gesê dat hy gedurende sy kinderjare bang was om hemel toe te gaan.  Hy kon hom indink hoe dit sou wees om vir ewig rond te sweef en te sing nie.  Toe ek in matriek was het ek dieselfde vrees gehad.

 

Ek hoop dat Rm.12:1 jou ten minste van drie dinge oortuig het:

 

[1] Dat Jesus ook jou liggaam verlos het, sodat jy nie vir ewig gaan rondsweef nie (vgl. 8:23).

 

[2] Dat jou hele lewe aanbidding is, sodat jy nie net vir ewig gaan sing nie, maar baie ander dinge tot eer van die Here gaan doen.

 

[3] Dat lofsprysing vir jou so natuurlik en spontaan soos asemhaling gaan wees, omdat jy nie anders kán as jy regtig verstaan wat Jesus vir jou gedoen het nie.

 

[1] Stuart Olyott, The Gospel As It Really Is, p.113

Hoe om reg te aanbid

Whitefield preaching

Wanneer dit by moraliteit kom is die wêreld se leuse: ‘As dit lekker voel, jou gelukkig maak, en niemand seermaak nie, kan jy dit maar doen.’  Ongelukkig het hierdie mentaliteit Christelike aanbidding beïnvloed.  Baie kerke voel ‘n veer vir wat God oor aanbidding sê.  Vir hulle is dit net belangrik dat mense lekker moet voel.

 

Vir ‘n ware Christen egter, maak dit saak om God reg te aanbid, om te aanbid soos wat Hy sê.  Ons bestaan om God te aanbid.  As jy dus die Bybel se lering oor aanbidding mis, mis jy nie net ‘n déél van die Christelike geloof nie – jy mis Christenskap.  Daarom is Eksodus 31 baie belangriker as wat ons dink.

 

Die Gees van aanbidding (v.1-6)

Vroeër vanjaar het my Volkswagen TDI skielik op ‘n dag niks krag gehad nie. Na ‘n lang gesukkel het die werktuigkundige die fout gekry.  Rotte het ‘n klein gaatjie in een van die pype geknaag, sodat dit lug gesuig het, en nie krag deurgegee het na die turbo nie.  Die kar kon ry, maar het niks krag gehad nie.  Op dieselfde manier kan ons God meganies aanbid en alles reg doen, maar geen krag hê nie.  Ons benodig die Heilige Gees as ons God reg wil aanbid.  Dit is die boodskap van v.1-6.

 

Toe God klaar instruksies vir die tabernakel gegee het, het Hy nie gewag vir ‘n vrywilliger om te help nie.  Hy het vir Besaleël, die seun van Uri, die seun van Hur, uit die stam van Juda gekies (v.1-2, 17:10, 12, 24:14).  In ‘n sekere sin was Besaleël ‘n tipologie van Jesus wat ook uit die stam van Juda was, en die tempel van die Here gebou het (Hebreërs 7:14, Matteus 16:18, Sagaria 6:12-13, Efesiërs 2:20).

 

Besaleël se naam beteken ‘in die skadu of beskerming van God’ (Psalm 91:1). Hy was die leier van die vakmanne wat die tabernakel moes bou.  God het hom geroep (v.2), afgesonder, toegerus om kunstig te werk (v.3, 1 Konings 7:14), met die Heilige Gees gevul (v.3, Rigters 6:34), gevul met kennis (v.3), vaardigheid, vakmanskap, en intelligensie om alles akkuraat te meet en te pas (v.3).  Hy het nie maar net ‘n natuurlike talent gehad nie, maar ‘n gawe vir ‘n geestelike en heilige taak.  Die Gees het aan hom die vermoeë gegee vir kunstige ontwerp, om te werk met goud, silwer, en koper (v.4), om stene te sny en te pas (v.5), en om fyn houtsneewerk te doen (v.5).  Hy was nie sommer maar net ‘n ‘Jack-of-all-trades-and-master-of-none’ nie, maar kon alles goed doen (v.5).  Hy was ‘n skrynwerker, juwelier, goudsmid, silwersmid, en kopersmid alles in een.

 

God het vir Oholiab, die seun van Ahisamag uit die stam van Dan gekies om vir Besaleël te help (v.6). ‘Toevallig’ beteken sy naam ‘my tent is die vader’ of ‘tent van die vader’.  Elke vaardige man het sy vaardigheid by God gekry (v.6).

 

Hierdie verse is ‘n illustrasie van wat dit beteken om God te aanbid in gees (Johannes 4:24). Om God in gees te aanbid beteken nie jy moet in tale bid of sing, emosioneel opgesweep raak deur ‘n koortjie wat jy oor en oor sing, of in vervoering raak sodat jy jou brein afskakel en nie jouself beheer nie.

 

Ons moet egter nie bang wees vir emosie nie. Om God in gees te aanbid moet jy die Woord baie lees en diep oordink (Kolossense 3:16, Efesiërs 5:18), jou sonde wat die Heilige Gees bedroef bely (Efesiërs 4:30), en bid dat God jou met sy Gees sal vul (Lukas 11:13).  Aanbid Hom dan met groot blydskap, volle vrede, oorvloedige hoop, diep liefde, sugtende verlange, ryk lofprysing, en brandende ywer.

 

Pasop tog om nie aanbidding tot sang te beperk nie. Onthou: Skriflesing, prediking, gelowige gemeenskap, gebed, offergawes, die nagmaal, geestelike gawes soos hulpverlening, administrasie, bemoediging, leiding, lering is alles deel van aanbidding.  Ons moet God ook op hierdie maniere aanbid in gees.  Dit is die Heilige Gees wat jóú gees bekragtig om tot eer van God en stigting van ander geld op te neem en te tel, die nagmaaltafel te dek, ‘n bulletin maak, preke op te neem, musiek te lei, mense te groet, ens. (1 Korintiërs 12:11).  Moet dan nie dink gebed en prediking is geestelik, maar om by die werksdag te help of ou mense vir kerk op te laai is nie (v.2-3, 6, Handelinge 6:3, 5).

 

Hoekom is belangrik dat ons God in gees moet aanbid?  As ons dit nié doen nie, is ons soos die Fariseërs wat volgens die Skrifte aanbid het, maar hulle harte was ver van God af (Matteus 15:8).  God haat meganiese en koue aanbidding.

 

Die gebod van aanbidding (v.6-11, 18)

André bou vir hom ‘n huis op ‘n gholf landgoed. Die tekenaar en argitek is baie gaaf en vriendelik met André, en gaan uit hulle pad om kwaliteit werk te lewer teen ‘n redelike prys. Maar daar is ‘n probleem:  hulle ontwerp, teken, en bou soos wat húlle goeddink, en nie soos wat hý vra nie.  Sal André hulle voorbarigheid verskoon, omdat hulle gaaf en vriendelik was, of omdat hulle netjies teken?  So ook is God nie tevrede as ons opreg en ywerig aanbid, maar doen soos wat óns wil, en nie soos wat Hý sê nie.  God het in v.6-11, 18 gesê dat die volk moes werk, aanbid, en doen volgens sý gebod en opdrag.

 

In v.1-6 het God mense vir hierdie taak toegerus, en in v.7-11 het Hy gesê wat die taak is. God het die vakmanne vaardig gemaak, sodat hulle alles kon maak volgens die plan wat Hy vir Moses gegee het (v.6). Wat moes hulle maak?  Die tent (v.7), die Ark van Getuienis met die goue versoendeksel en gerubs bo-op (v.7), die tent se meubels (v.7):  die wierook altaar (v.8), die kandelaar (v.8), die tafel met toonbrode (v.8), die koper altaar (v.9), al die bypassende instrumente, die koper waskom met sy staander (v.9), die kunstig-geweefde en heilige klere vir Aäron en sy seuns in hulle diens as priesters (v.10), die salfolie, die geurige wierook vir die heilige plek (v.11).  Hulle moes alles presies maak volgens God se instruksies aan Moses (v.11).

 

In v.18 het Moses die Tien Gebooie op twee kliptafels gekry. God het dit in klip gegraveer om te wys dat dit vir alle geslagte geld.  In die Nuwe Testament het Hy hierdie wet op ons harte geskryf ( 2 Korintiërs 3:3, Hebreërs 8:10).  God het dit ook met sy vinger geskryf, om te wys dat dit Goddelik en hemels is (vgl. 8:19, Lukas 11:20, Psalm 8:4).

 

Wat is die lesse wat ons uit hierdie verse moet leer? Ons moet God in waarheid aanbid (Johannes 4:24).  Wat beteken dit?  Tydens die hervorming het Martin Luther gevoel dat die kerk die Katolieke aanbidding wat nie met die Skrif bots nie, so moes los.  Ulrich Zwingli het egter gesê dat die kerk net moes aanbid volgens die direkte opdragte van die Nuwe Testament.[1]  My swaer moes onlangs badkamerkaste vir iemand bou.  Sou dit saakgemaak het as hy dit volgens die planne gebou het, maar ook enigiets bygevoeg het wat nie in die planne verbied was nie?  Ja dit sou, want dan sou die kaste nie in die spasie of by die res van die badkamer se styl gepas het nie.

 

Op dieselfde wyse moet ons God slegs aanbid volgens wat Hy in die Nuwe Testament voorgeskryf het, en nie volgens die Nuwe Testament plus alles wat nie daarin verbied word nie.  Hoe lyk Nuwe Testamentiese aanbidding?  Ons moet die Skrif lees, preek, bid, sing, en dit in die sakramente sien.  Die detail daarvan sal verskil van een kerk na die volgende.  Gemeentes moet self besluit of hulle een of meer Skriflesing moet hê, ‘n reeks uit ‘n Ou- of Nuwe Testament boek wil preek, watse musiek instrumente hulle gaan gebruik, hoeveel liede hulle wil sing, hoe gereeld hulle die nagmaal gaan vier, of daar ‘n getuienis voor die doop gaan wees of nie, of gebede spontaan of neergeskryf moet wees, ens.

 

Die Nuwe Testament is die vervulling van die wet. Daarom moet ons die Nuwe Testament in ons aanbidding volg, en nie vashou aan die skadus en tipes van die wet nie.  As jy dit nié so doen nie, sal jy weer priesters en die Ou Testament feeste hê, olie op mense se voete smeer, wierook en kerse brand, ramshorings blaas, met vlae dans, beelde in die kerk oprig (soos die gerubs bo-op die ark), die doop in die plek van die besnydenis inbring en babas doop, ens.

 

As ons God nie volgens sý voorskrifte aanbid nie, loop ons die gevaar om ‘n god van ons eie verbeelding te skep, en uiteindelik ‘n vals god te aanbid (20:4-5, 32:4-5).

 

Die dag van aanbidding (v.12-17)

Ek onthou as kind hoe middagslapies vir ons ‘n straf was. Ons het dit gehaat.  Noudat ek ouer is, wens ek middagslapies was verpligtend.  Die Israeliete moes nie die Sabbat as ‘n straf sien nie, maar as ‘n seën om hulleself te verfris en te verkwik (Markus 2:27).  As God dit nie ingestel het nie, sou mense makliker ‘n afgod maak van werk, ons huwelike en gesinne afskeep, nie tyd neem om saam met ander te aanbid nie, gouer siek word a.g.v. ‘n liggaam wat moeg, gestres, en uitgeput is.  Daarom het God hierdie streng wet gegee in v.12-17.

 

Na God se opdrag oor die plek van aanbidding, het Hy ook ‘n opdrag gegee oor die dag van aanbidding.  In die konteks het Hy in effek gesê:  ‘Rus selfs van heilige werk.  Werk vir ses dae aan die tabernakel, maar rus op die sewende dag.’  In die teks praat die Here van my Sabbatte.  Daardeur het God gewys dat Hy die dag ingestel het, en dat dit ‘n spesiale dag was vir diens aan Hom (v.13).  Die heilige dag was ‘n teken dat Israel ‘n heilige volk was vir die Here (v.13, 16).  Die dag was spesiaal, sodat God op hierdie dag sy volk deur die genademiddele (die Woord, offers, gebed, lofsange, ens.) kon heilig maak (v.13).

 

Die volk moes die dag heilig hou en dit nie beskou het soos enige ander dag, sodat hulle daarop gewerk het nie (v.14). Enigiemand wat ongehoorsaam was moes doodgemaak word (v.14-15, Numeri 15:32-36).  Die straf was erg, sodat die volk kon sien God is ernstig en heilig.

 

Die volk kon vir ses dae werk en maklik hulle week se werk klaarkry (v.15). Die rus op die sewende dag moes heilig en volkome wees.  God wou hê hulle moes hulle liggame rus, en hulle siele deur aanbidding verkwik (v.15).  Die Sabbat was ‘n ewige teken dat God die hemel en die aarde in ses dae geskep het, en op die sewende dag gerus het (v.17, Genesis 2:2-3).  So sou die volk onthou dat Hy, en nie ander gode nie, die Skepper is (v.17).  Net soos God, moes hulle vir ses dae werk en op die sewende dag rus en verfris raak (v.17).

 

Die les vir ons is duidelik: neem ‘n rusdag om God te aanbid.  Om dit reg te hou, moet jy hierdie dag in die lig van die Nuwe Testament beskou.  In die Ou Testament het God die sewende dag geheilig en daarop gerus, nadat Hy die skepping voltooi het.  In die Nuwe Testament het Hy die eerste dag geheilig en van sy verlossingswerk gerus, nadat Jesus die nuwe skepping in sy opstanding begin het.  ‘n Rusdag op die eerste dag is ‘n prentjie van ons rus in Jesus (Hebreërs 4:3, 8-10, Openbaring 14:13, Matteus 11:28-29).  Die Ou Testament Sabbat was ‘n skadubeeld van hierdie rus (Kolossense 2:16-17).

 

Die Sewendedag Adventistekerk sê Konstantyn was ‘n sonsaanbidder, en het daarom in 321 n.C. die Sabbat na die Sondag toe verander.[2]  Maar Konstantyn het reeds in 312 n.C. sonaanbidding gelos om Jesus te aanbid.[3]  Nadat hy vir Maxentius by die Mulviese Brug oorwin het, het hy nie volgens tradisie die Romeinse gode vereer nie, maar vir Jesus alleen.[4]  Konstantyn het die Sondag vereer omdat hy Jesus se opstanding wou erken, en nie omdat hy een of ander songod wou aanbid nie.[5]

 

In die middel van die 2de eeu het Justin Martyr gesê dat Christene op Sondae aanbid. Hy het geskryf:  ‘Ons hou ons gewone saamkomste op Sondae, want dit is die eerste dag toe God duisternis en choas verdryf het om die wêreld te maak.  Ons doen dit ook so, omdat ons Verlosser, Jesus Christus op hierdie dag opgestaan het uit die dood.’[6] (vry vertaal).

 

Baie gou na Jesus se opstanding het Christene begin om op Sondae te aanbid. Handelinge 2:1 wys dat die kerk op ‘n Sondag gebore is (vgl. Johannes 20:1, Levitikus 23:16).  Daarna het die gelowiges op Sondae ontmoet (Handelinge 20:7, 1 Korintiërs 16:1-2, Openbaring 1:10).  Dit het gebeur soos wat dit in die Ou Testament voorspel is:  die dag wat die Here gemaak het en waarin ons bly is, is die dag van Jesus se opstanding waarop Hy die hoeksteen geword het (Psalm 118:24, 22-23, Handelinge 4:10-11).

 

Dit is jammer dat party kerke op Saterdae aande dienste hou, sodat mense op die Here se Dag hulle eie ding kan doen. Kom op Sondae saam om die opgestane Jesus te aanbid en geestelik verkwik te raak.

 

Baie mense glo dat die koms van die charismatiese beweging Christelike aanbidding verryk het. Ek verskil.  Na my mening het hulle ‘n Babelse verwarring veroorsaak, en ‘n goue kalf in die kerk ingebring.  Hulle het gemaak dat mense aanbidding verwar met ‘n emosionele gevoel, en dat hulle dit beperk tot ‘n vreemde gebrabbel en koortjies wat oor en oor gesing word.  ‘n Vrou het eenkeer vir my gesê:  ‘As die musiek goed was en ek vir ‘n halfuur of 40 minute lekker kon worship, gee ek nie om of die preek goed is of nie.’

 

Dit sal goed wees as ons kan leer by ‘n prediker wat eenkeer by ‘n vreemde kerk gepreek het. Toe die sang verby is, het die musiekspan in die agterste banke gaan sit om te slaap.  Die prediker het hulle wakker gemaak en gesê hulle moet respek hê vir God se Woord.  ‘Die musiek is nie die enigste deel van aanbidding nie; die preek is ook aanbidding,’ het hy gesê.  Ek hoop dat jy uit Eksodus 31 ten minste iets van ware Bybelse aanbidding geleer het.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, p.149

[2] Sewendedag Advenstiste Glo…, p.276

[3] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.1, p.152

[4] Williston Walker, A History of the Christian Church (4th Edition), p.125

[5] Needham, vol.1, pp.164-165

[6] Ibid, pp.66-67

Orde in die erediens

Reformed worship

‘n Paar jaar gelede moes ek iemand oplaai by Parkstasie in Johannesburg. By die kruising waar ek regs moes draai het mense wetteloos oor die rooi lig gery. Die verkeer het soos ‘n koeksister gevleg geraak in die middel van die kruising. Een man het teen my kar geslaan, omdat ek nie soos die res die rooi lig geïgnoreer het en saam wetteloos was nie. As daar choas is op die pad, help dit as ‘n verkeersman die karre reguleer sodat dit ordelik vloei. So is dit in die erediens: God soek orde. In 1 Korintiërs 14:26-40 wys Paulus vir ons hoe dit in die praktyk lyk.

 

Reëls vir tale (v.27-28)

‘n Kollega het my vertel van ‘n chaotiese erediens wat hy bygewoon het. Party het in tale gesing, ander het met ‘n vlag op die verhoog rondgehardloop, ander mense het gewag dat die pastoor vir hulle ‘n profesie moes gee, ander het ‘in die gees’ geval, ander het gebid, ens.

 

Paulus praat daarteen en beveel dat daar orde moet wees. In v.27-28 gee hy reëls vir spreek in tale:

 

[1] Net twee of drie mag praat (v.27).

 

[2] Hulle moet een na die ander praat (v.27).

 

[3] Daar moet ‘n uitleg wees (v.27).

 

[4] As die persoon met die gawe van uitleg afwesig is, moet dié wat die gawe van tale het stilbly (v.28). Hulle moet saggies met hulleself praat (dit is letterlik wat oordenking of bepeinsing beteken). Hulle moet ook saggies tot God bid – seker vir die vermoë om die taal uit te lê (v.13). Die teks sê nié dat hulle by die huis in tale moet praat nie. Die konteks hier gaan oor die erediens (v.28, 26). Die feit dat die persoon kan stilbly wys dat tale nie ‘n onbeheerde ekstase is nie.

 

Reëls vir profesie (v.29-36)

Die meeste moderne ‘profete’ wil nie in die lig van v.29-36 geëvalueer word nie. Sodra jy dit wil doen, sê hulle jy probeer die Heilige Gees inperk en in ‘n boks sit. Maar die waarheid is dat die Heilige Gees self die ‘boks’ gebou het: Hy self het die reëls daargestel en geïnspireer (v.37-38).

 

Toe mense vir Benny Hinn teen die Skrif wou meet (v.29), het hy gesê: ‘Those who put us down are a bunch of morons… You know, I’ve looked for one verse in the Bible, I just can’t seem to find it. One verse that says, ‘If you don’t like ’em, kill ’em.’ I really wish I could find it… Sometimes I wish God would give me a Holy Ghost machine gun – I’ll blow your head off!’[1]

 

God het reëls waarvolgens ons moet aanbid – ons kan nie doen soos wat óns wil nie. In v.29-36 gee Paulus reëls vir profesie.

 

[1] Net twee of drie mag profeteer.

 

[2] Mense met die gawe van onderskeiding (12:10) moet weeg of die profesie balanseer in die skaal van die apostels se lering, en of dit vals is en te lig weeg (v.29). Ander verse in die Nuwe Testament sê:

 

  • “Verag die profesieë nie. Beproef alle dinge; behou die goeie.” (1 Tessalonisense 5:20-21).
  • Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.” (1 Johannes 4:6).
  • “En hulle het volhard in die leer van die apostels” (Handelinge 2:42).
  • “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie” (1 Timoteus 6:2).
  • “sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser.” (2 Petrus 3:2).
  • “gebou op die fondament van die apostels en profete” (Efesiërs 2:20).

[3] As ‘n ander profeet ‘n openbaring kry, moet die eerste een stilbly (v.30). Hoekom? Die Heilige Gees wys dat die eerste profeet vals profeteer. Óf Hy wil keer dat een profeet die vloer oorneem, en wil sorg dat ander ‘n beurt kry (v.31).

 

[4] Die profete moet een vir een praat, sodat elkeen – soos wat die weke aanstap – ‘n beurt kan kry om die kerk te leer en te bemoedig (v.31, 3, 27).

 

Orde en stilte wys dat ‘n profeet nie buite homself raak nie: hy kan sy gees beheer (v.32). Orde in die kerk weerkaats dat God ‘n God van orde en vrede is (v.33a). Chaos in die kerk vertel ‘n leuen oor God en sê Hy is wanordelik (v.33a, 23). Hierdie reëls geld vir alle kerke, en nie net vir die Korintiërs nie (v.33b, vgl. 4:17, 7:17, 11:16, 16:1).

 

[5] Vroue moet stil en onderdanig wees in die kerk (v.34-35, vgl. stilte in 28, 30). Die konteks bepaal nie absolute stilte nie, maar stilte met betrekking tot die evaluasie van profete en dus ook lering (v.34, 1 Timoteus 2:11-12). Die konteks bepaal ook dat ‘n vrou aan haar eie man onderdanig moet wees (v.35).

 

Om sy punt te staaf, verwys Paulus terug na die Ou Testament wat sê dat ‘n man sy vrou moet lei (v.34, Genesis 1:26-27, 5:1-2, 2:18, 23, 3:20, 9, 11, 1 Korintiërs 11:3, 8-9, 1 Timoteus 2:13). Mans moenie passiewe papbroeke wees soos Adam nie, maar moet hulle vroue lei, leer en beskerm (v.35). Dit is lelik as ‘n vrou oor haar man baasspeel soos wat Eva oor Adam gedoen het (v.35, Genesis 3:6, 16).

 

Moenie soos die Korintiërs arrogant wees en dink die Skrif is onder jou, of dat die reëls vir orde vir ander geld, maar nie vir jou nie (v.36, 33b).

 

Reëls vir die gawes (v.26, 37-40)

In 2001 het Peter Wagner homself as ‘n moderne apostel aangestel. Hy het ‘n hele nuwe orde van apostels gestig, en gesê dat mense vir slegs $69 per maand ‘n apostel kan wees. Toe mense uit Handelinge 1:21-22, 24, 2 Korintiërs 12:12 vir Wagner wys dat daar vandag nie meer apostels is nie, het hy die Skrif eenkant toe geskuif.[2]

 

Paulus het gesê dat alle gawes en die ordelike gebruik daarvan teen die Skrif moet opmeet (v.37). Indien dit nie opmeet nie, moet die persoon nie erken word nie (v.38). Vers 26 begin met: ‘Wat dan broers?’ Paulus som op na 12:1-14:25. Met die woord ‘broers’ (v.26) wys Paulus, te midde van ‘n somber toon, dat hy die Korintiërs liefhet.

 

As hulle saamkom het elkeen ‘n psalm (Kolossense 3:16), ‘n lering (didache, 1 Timoteus 4:13, 2 Timoteus 4:2), ‘n openbaring (v.30, 2 Petrus 1:20-21), ‘n taal, ‘n uitleg (v.26, 12:10). Die probleem is nie dat die Korintiërs hulle gawes gebruik het nie, maar dat hulle dit nie gebruik om ander op te bou nie (v.26, bv. tale wat nie uitgelê word nie).

 

Die profete, die ‘geestelikes’ wat in tale praat, en elke ander gawe moet opmeet teen die apostels se lering – teen die Skrif (v.37, Gk. graphe, 1 Johannes 4:6). Die een wat dít nie erken nie, verwerp God en is ‘n vals profeet – God, Paulus, en die kerk sal so iemand ook nie erken nie (v.38). Paulus is nie teen gawes soos tale en profesie nie, maar moedig dit aan (v.39). Hy is eerder teen profesie wat met die Skrif bots, teen tale wat nie uitgelê word nie, teen wanorde (v.37-38, 13, 40).

 

Die toepassing van v.26-40 is maklik: wees ordelik in die erediens. Moenie val vir kerke en TV-dienste waar mense chaoties aanbid, en sê dis die Heilige Gees se werk nie (v.33a). As mense gelyk in tale praat en niemand dit uitlê nie (v.27-28), of in die ‘gees’ val, ruk, lag, blaf, skreeu, kruip, en hop, is dit nie die Heilige Gees se werk nie. Dit is ‘n vals gees, die vlees, of beide se werk (v.23):

 

“Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.” (Jakobus 3:14-16).

 

As jy hierdie mense se tale en ervarings bevraagteken, skiet hulle gewoonlik terug met v.39: “moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie.” Maar dit is ‘n onwettige beswaar. Paulus self het gekeer dat almal nie gelyk in tale praat, of in tale praat sonder ‘n uitleg nie. As moderne tale nie aan die vereistes van die Skrif voldoen nie, dan móét ons dit afskryf.

 

  • Waar is die moderne tale wat nie ‘n brabbeltaal is nie, maar ander lande se tale soos in v.10-11, 21, Handelinge 2:5-11?
  • Waar is die moderne tale wat uitgelê word om kerk te stig, en nie selfsugtig in die binnekamer gebruik word nie (v.13-19)?
  • Waar is die ordelike tale volgens v.27-28: net twee of drie, een na die ander, ‘n uitleg, en onmiddellike stilte as daar nie ‘n uitleg is nie?
  • Waar is die profete wat oop is vir evaluasie (v.29)?

 

Orde in die erediens beteken ook ‘n vrou mag nie onderrig gee of leiding neem nie (v.34-35, 1 Timoteus 2:12). Paulus is nie seksisties of téén vroue nie. Hy ontken nie dat vroue goed kan praat of die Skrif ken nie. Hy wil eerder hê dat mans nie passief moet rondstaan soos Adam nie, maar dat hulle hul vroue moet beskerm. Daarom moet mans:

 

  • Die kritiek vat
  • Vals lering beveg
  • Die duiwel teëstaan
  • Die kerk met sterk vleis voer
  • Die Koning se boodskap uitroep
  • Sonde tug
  • Dapper wees
  • Vroue in hulle dienswerk aanmoedig
  • Die vrou se hoë roeping om kinders op te voed, koester en beskerm

Dit is nie dat vroue onbevoeg is nie. Dis eerder dat mans nie passief moet wees, en soos sissies en papbroeke toekyk hoe vroue die bogenoemde dinge doen nie (dis soos ‘n pa wat TV kyk en bier drink, terwyl sy vrou die balhorige kinders moet tugtig).

 

Voel jy selfregverdig omdat ons ordelik aanbid, rustig is en nie chaoties nie? Begraafplase is ook rustig. Jesus waarsku: “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.” (Openbaring 3:1). Pasop dat jý nie so is en geen probleme het nie, omdat jy jouself eenkant hou en nie jou gawe gebruik om betrokke te raak by mense nie. Dien in die erediens.

 

Dalk het jy uiterlik orde, maar die sonde in jou siel lyk soos ‘n houthuisie nadat ‘n tornado dit getref het. As dít die geval is, beteken orde in die erediens niks. Soos God in Genesis 1:2 orde uit chaos gebring het, doen Hy dit in die nuwe skepping van jou hart (2 Korintiërs 5:17). Erken dat daar chaos in jou hart is. Vra dat Jesus jou sonde wegvat en jou hart rein was met die bloed van sy kruis. Bekeer jou deur krag en aanbid Hom dán ordelik.

 

Brahm, Marthiens, Riaan, en Ferdi is ‘n sesjarige vierling. Jy sidder as hulle ouers by jou huis kom kuier. Die vierling spring op jou banke, stoei naby die kristalbak op jou koffietafel, treiter jou hond, staan op jou kombuistafel, trek die plante uit jou tuin uit, pluk die groen perskes af, gooi grond in die swembad, eet soos varke met hulle hande, krap in jou slaapkamer se laaie, rol die toiletpapier af, en gooi tantrums. Die wanordelike kinders spreek volumes oor hulle ouers en gee vir hulle ‘n slegte naam.

 

Laat ons nie soos die vierling wanordelik wees en Jesus se Naam swartsmeer nie (v.33a), maar laat alles deeglik en ordelik by ons geskied (v.40).

[1] John MacArthur, Strange Fire, p.7

[2] Ibid, pp.93, 85-89

’n Prentjie van Jesus

Stencil of Jesus

Ek het gesien hoe man ’n onder vyf minute met dowwe oranje op ‘n groot swart bord verf. Die prent wat hy geverf het was onderstebo. Toe hy die bord omdraai, was dit Jesus se gesig met ‘n doringkroon op sy kop. Hy het nie die detail ingevul nie, maar met breë stroke geverf. Tog kon ‘n mens duidelik sien dit is Jesus. So is dit met die tabernakel in Eksodus 25. Jy kan nie die detail van Jesus se Persoon, lewe, en karakter sien nie, maar jy kan duidelik sien dis Hy.

 

Die tabernakel (v.1-9)

Ons hou jaarliks ‘n dankoffer Sondag waarin ons ‘n spesiale kollekte opneem. Ek onthou hoe opgewonde my kinders laasjaar was. In ons huisgodsdiens het hulle God daarvoor geprys. Hulle kon nie wag om te gee nie. So was die volk in v.1-9: hulle wou baie graag vir die Here se werk gee.

 

Moses was op die berg (24:18) en het daar die instruksies vir die tabernakel gekry (v.1-2, 20:19). Die volk moes vrywillig vir die bou van die tabernakel bydra (v.2, vgl. 1 Kronieke 29). Watse materiale het hulle nodig gehad?

 

[1] Edelmetale vir die kandelaar, tentpenne, basisse, oordekking van meubels, afwerkings op die hoëpriester se kleed: goud, silwer, en brons (v.3).

 

[2] Materiaal vir die priesters se klere, asook die binnekant van die tabernakel: blou, pers, rooi geweefde materiaal, en fyn linne. Die materiaal se kleur is verkry uit skulpvis, ‘n murex slak, en die coccus ilicis wurm se eiers en dop (v.4). Rooi, blou, en pers is koninklike kleure. Fyn linne is ‘n hoë kwaliteit materiaal wat deur Egiptiese adelikes gedra is.

 

[3] Dierevelle vir die tabernakel se buitekant (v.4-5): swart bokhare wat geweef is (dit is water bestand), gebreide ramsvelle wat rooibruin gekleur is, robbe of doegong[1] velle. Die Hebreeuse woord kan moontlik die velle van boerbokke, dolfyne, of ratels impliseer.

 

[4] Hout vir die meubels: akasia (v.5). ‘n Akasia is ‘n platkruin doringboom met digte hout wat nie graag deur insekte geëet word nie. Die hout is rooibruin met ‘n ligtebruin grein.

 

[5] Olies en speserye vir die lamp, wierook altaar, salwing van die priesters en parfuum (v.6). Arabië was bekend vir hul speserye.

 

[6] Edelstene vir die hoëpriester se borsplaat en skouers (v.7): oniksstene vir die skouers (hierdie stene kom in ‘n wye verskeidenheid kleure), twaalf soorte edelstene vir die borsplaat (28:17-20). Die volk het seker die materiale uit Egipte gekry (12:35-36).

 

Gee met gewillige hart. Onthou dat God sy Seun vir jóú gegee het (Johannes 3:16). Reageer dan in liefde en met ‘n dankbare hart (1 Johannes 4:19). Gee eers jouself voordat jy jou geld gee (2 Korintiërs 8:5). Moenie uit dwang gee, of dink jy staan onder die Ou Testament tiende-wet nie (sien my preke onder ‘Tiendes en Offergawes’). Gee volgens die voorspoed wat jy ontvang het (1 Korintiërs 16:2, 2 Korintiërs 9:7). Moenie gee omdat jy skuldig voel nie. Moenie met ‘n toe vuis gee nie, maar met ‘n oop en vrygewige hand (2 Korintiërs 9:6, Romeine 12:8). Hoekom moet jy só gee? Want die Skrif sê God het ‘n blymoedige gewer lief (2 Korintiërs 9:7).

 

Een van my vriende het vir my gesê: ‘Ek haat dit om van my vrou af weg te wees. Ek sou veel eerder saam met my vrou wees as met enige van my vriende. Ek geniet dit vreeslik om in haar teenwoordigheid te wees.’ Net so kan God nie naby genoeg aan sy volk wees nie. Hy kom nader en nader en nader tot in die Nuwe Testament en uiteindelik in die hemel.

 

Die volk moes ‘n heiligdom vir die Here bou, sodat Hy by hulle kon wees: God wou in hulle midde wees en nie in ‘n wolk op berg Horeb nie (v.8, 24:16): “En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees… Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel… dan sal Ek onder die kinders van Israel woon en my volk Israel nie verlaat nie.” (29:45, Levitikus 16:2, 1 Konings 6:13).

 

Toe Jesus aarde toe gekom het, het Hy onder sy mense kom woon. Die Grieks van Johannes 1:14 sê letterlik dat Hy onder ons kom ‘tabernakel’ het. 2 Korintiërs 6:16 gaan selfs verder: “Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Uiteindelik sal God vir ewig in ons midde wees in die hemel: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3).

 

Vra vir die Here om naby jou te wees. Hoe doen ‘n mens dit?

 

  • Jy bely jou sonde en bekeer jou daarvan: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:8).
  • Bid gereeld, want die Here is naby aan almal wat Hom aanroep in waarheid (Psalm 145:18, Deuteronomium 4:7).
  • Bid Efesiërs 3:16-17 dat God jou deur sy Gees versterk, sodat Christus in jou hart kan woon.
  • God gebruik beproewing om jou nader aan Hom te bring (Psalm 34:19). Moet dan nie teen Hom veg en so gou moontlik die beproewing agter die rug wil kry nie: “Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.” (Psalm 32:9).
  • Wees nederig, want God woon naby sulkes (Jesaja 57:15).

 

Hoekom moet jy vir die Here vra om naby jou te wees? Want dit is naby Hóm wat jy die grootste vrede en vreugde vind.

 

Vandag is daar ‘n beweging waarin Christene vir ongelowiges vra wat hulle in ‘n kerk soek, en die kerk daarvolgens inrig, sodat mense gemaklik kan voel. God wil hê ons moet Hom aanbid soos wat Hy sê, en nie soos wat mense wil hê nie. Die volk moes die tabernakel en sy meubels presies maak volgens die model wat God vir Moses gewys het (26:30, 27:8, 36:1, 39:1, 5, 7, 21, 26, 29, 31, 42, 40:16, 19, 21, 23, 25, 27, 29, 32). Hierdie model was maar ‘n skadubeeld van die ware tabernakel in die hemel (Hebreërs 9:23-24, 5, 8:2, 5).

 

Moses moes die Argitek se tekenplan volg, en nie sê: ‘Laat ons die tabernakel bou volgens die plan, maar ons kan ook enige ekstras aanlas wat God nie eksplisiet verbied het nie.’ Net so moet ons die Here aanbid volgens sý presiese voorskrifte in die Bybel, en nie volgens alles wat Hy nie eksplisiet in die Skrif verbied het nie (v.9). In teologie sê ons: ‘Ons aanbid die Here volgens die regulatiewe beginsel en nie volgens die normatiewe beginsel nie.’

 

Prakties beteken dit ons lees, preek, sing, bid, en sien die Bybel in elke erediens (1 Timoteus 4:13, 2 Timoteus 4:2, Kolossense 3:16, Matteus 6:9-13, Handelinge 4:24-26, Romeine 6:3-4, 1 Korintiërs 11:23-26). Hoekom moet ons die regulatiewe beginsel volg? Want as ons dit nié doen nie, oortree ons die tweede gebod (20:4-6), en aanbid ons die ware God op ‘n valse manier.

 

Die ark (v.10-22)

‘n Man het eendag gehoor dat my vrou koeke bak en in ‘n grap gesê dat sy ‘n koek moet bak, en ‘n klein ark met gerubs op bo-op die koek moet sit. Sy gewete het hom onmiddellik getref, sodat hy gesê het: ‘My hart is so pervers dat ek lag oor iets wat heilig was in die Ou Testament.’ Hy was reg.

 

Van al die meubels in die tabernakel word die ark eerste genoem, omdat dit die troon van God was (2 Samuel 6:2). Dit was ‘n boks wat van akasia hout gemaak is: 112,5 x 67,5 x 67,5 cm hoog (‘n el was 45 cm). Dit was binne en buite met suiwer goud oordek. Daar was ‘n goue rand om die kant. Dit wys vir ons dat God nie net funksioneel is nie: Hy hou van kunstige en pragtige werk – soos in die skepping – wat sy skoonheid en heerlikheid weerspieël (vgl. 28:2).

 

Daar moes vier goue ringe aan die vier voete wees (hier is die skets verkeerd). Die akasia pale moes met goud oordek word en deur die ringe gesteek word, sodat die Leviete die ark op hulle skouers kon dra – hulle mag nie aan die ark geraak het nie (1 Konings 8:8, 1 Kronieke 13:7-10, 15:13-15). Moses het die klip tafels met die Tien Gebooie van die Getuienis binne-in die ark gesit (Hebreërs 9:4).

 

Bo-op die ark moes ‘n versoendeksel van soliede goud gemaak word (112,5 x 67,5 cm). Op die Dag van Versoening het die hoëpriester dié deksel sewe keer met bloed gesprinkel (Levitikus 16:16). Die versoendeksel staan dus tussen die volk en God se gebreekte wet. In die Nuwe Testament sprinkel Jesus sy bloed as versoening tussen ons en God se gebreekte wet (1 Johannes 2:1-2).

 

Aan die kant van die deksel was daar twee gerubs wat met hulle vlerke aan mekaar geraak het (Hebreërs 9:5). Hierdie is in Jesus vervul, toe daar twee engele aan beide kante van sy graf gestaan het (Johannes 20:12). ‘n Gerub is ‘n hemelwese wat lyk soos ‘n mens, ‘n leeu, ‘n bees, en ‘n arend (Esegiël 1, 10, Openbaring 4). Die gerubs het God aanbid en ook sy troon teen die mens se besmette hande bewaak (Genesis 3:24, Openbaring 4:6b). Hulle vlerke was gesprei, sodat God dit as sy troon kon gebruik (1 Samuel 4:4). Hulle gesigte was na onder gedraai, omdat hulle God in sy heerlikheid nie kon aanskou nie (Jesaja 6:2). God het Moses hiér ontmoet en met hom gepraat (v.22, Numeri 7:89, Psalm 99).

Ark of Covenant

Kom in God se troonkamer in. Kom in deur die bloed van Jesus, ons versoendeksel, en deur die geskeurde voorhangsel (Hebreërs 10:19-22). Kom in gebed (Hebreërs 4:16). Kom met ‘n rein hart (Hebreërs 10:22). Kom met vrees en eerbied (Hebreërs 12:28-29). Kom met vrymoedigheid en geloof dat God jou nie sal doodmaak nie, maar sal aanvaar deur Jesus (Hebreërs 4:16, 10:22). Kom in en sien die heerlikheid van Iemand wat groter is as Salomo. As jy Hom, sy troon, sy troonkamer, sy diensknegte, sy rykdom sien, sal jou asem weggeslaan wees (1 Konings 10:4-7).

 

Die tafel (v.23-30)

As boemelaars aan my deur klop vra hulle dikwels só vir kos: ‘Ek vra net ‘n stukkie brood.’ As iemand baie arm is, sê hy: ‘Ek kan nie eers brood op my tafel sit nie.’ Brood is ‘n metafoor vir jou basiese lewensbehoeftes. Dis die punt van die tafel met toonbrode: God voorsien vir sy volk.

 

Die tafel was van akasia hout gemaak: 90 x 45 x 67,5 cm hoog. Dit is oordek met suiwer goud, het ‘n goue rand gehad, en kante soos ‘n snoekertafel wat 7.5 cm bo die blad moes uitsteek. Daar was ‘n rand van fyngoud om hierdie lys. Daar was ook goue ringe net onder die blad op die tafel se vier bene. Pale van akasia hout wat met goud oordek is moes deur die ringe gaan, sodat die Leviete dit op hulle skouers kon dra.

 

Daar moes ook goue borde, rookpanne vir die wierook, kanne en bekers vir die drankoffers wees. Daar was ‘n blou tafeldoek oor die tafel (Numeri 4:7). Die instrumente en brode moes op die tafel wees. Elke Sabbat moes daar 12 vars brode (in twee hope van ses) met wierook bo-op op die tafel wees. Die priesters kon hiervan eet (Levitikus 24:5-9, Hebreërs 9:2). Die heidene het brood in hulle tempels gesit om die gode te voer. Dit is nie die geval hier nie. Die brode wys eerder dat God sy volk versorg. Jesus self is die Brood uit die hemel, die Brood van die Lewe wat ons voed (Johannes 6:32-35).

Table for Bread

Sien ‘n prentjie van Jesus in die tafel. Eet hierdie geestelike Brood deur geloof (Johannes 6:32-35). Eet Brood deur gemeenskap met Jesus te hê (Openbaring 3:20). Eet Brood deur die nagmaal te herdenk (1 Korintiërs 11:23-26). Eet Brood in die Koninkryk van God (Psalm 23:5, Lukas 14:15). Eet Brood in die Woord van God (Job 23:12, ESV). Moet ook nie vergeet om vir jou daaglikse brood te bid en die Here daarvoor te dank nie (Matteus 6:11, 1 Timoteus 4:4-5). Sonder brood in jou maag sal jy sterf, en sonder Jesus, die Brood van die Lewe, sal jy geestelike sterf.

 

Die kandelaar (v.31-40)

Na ‘n paar weke van reën in Johannesburg het ‘n radio omroeper gesê: ‘Sjoe, dis lekker om weer die son te sien.’ Kan jy dink hoe voel mense in Skandinawië, Siberië, en Alaska waar daar by tye in die jaar net 4 ure sonskyn per dag is? Hoe verlig voel hulle nie as die son na ‘n donker winter weer vir lang ure in die somer skyn? Almal geniet lig. Dink maar aan hoe lekker dit is om in Kaapstad die son na 20:00 te sien. Die lig in die tabernakel moes hierdie idee skep.

 

Die kandelaar is van een stuk suiwer goud gemaak (Hebreërs 9:2). Dit het bestaan uit ‘n voetstuk, ‘n stam, takke, kelke, knoppe, en blomme. Die takke het uit die middelste stam geloop: drie takke aan elke kant. Daar was ‘n kelk, ‘n knop, en ‘n blom (soos amandel bloeisels) op elke tak. Op die middelste stam was daar vier kelke, knoppe, en blomme wat mooi tussen die voetstuk en die bo-punt versprei was. Daar was ook nóg kelke, knoppe en blomme op die ander takke waar hulle by die stam uitloop.

 

Daar was sewe klein lampies op die sewe koppe. Die lampe was na vore gedraai, sodat die lig op die tafel kon skyn (onthou, daar was nie vensters nie). Daar was ook goue snuiters om die lamppit te ‘trim’, en sewe goue bakke (was dit dalk om die olie in te meng?). Alles saam is uit 34 kg (1 talent) suiwer goud gemaak. Die kandelaar het gewys dat Israel die lig vir die nasies is (Jesaja 60:3), en is vervul in Jesus wat die Lig vir die wêreld is (Johannes 1:6-9, 8:12).

 

Moses moes alles maak soos God vir hom gewys het (v.40).

Golden lampstand

Leef in en as die lig van die Nuwe Testament. Hoe doen jy dit? Los die donker van jou sonde en kom na die lig toe (Johannes 3:19-21). Hou op om dinge in die geheim te doen. Bely jou sonde, want God hou nie gemeenskap met die donker van sonde nie (1 Johannes 1:5-7). Deel die evangelie met ander en vat só die lig na hulle toe (Handelinge 13:47). As gemeente moet ons die lig van die evangelie in die wêreld skyn (Openbaring 1:20). Anders beteken ons niks en sal Jesus ons lig uitdoof (Openbaring 2:4-5). Leef heilig en skyn Jesus se lig voor die wêreld (Matteus 5:16). Streef na die ewige Lig van die hemel: God self (Openbaring 21:22-25). Wat is die alternatief? Die ewige duisternis van die hel (Matteus 25:30).

 

As ‘n sekere spreker by ‘n nuwe plek praat, wys hy ‘n foto van ‘n vrou op die skerm en sê: ‘Dit is nie my vrou nie; dis net ‘n prentjie van haar.’ So is dit met die tabernakel: dis nie Jesus nie, maar net ‘n prentjie van Hom. In die Nuwe Testament skyn daar ‘n voller lig, en sien ons Jesus self. As Hy weer kom sal ons Hom met ons oë sien en vir ewig by Hom wees. Dan sal ons nie net van die tabernakel vergeet nie, maar selfs van ‘n lewe van geloof op aarde, want in die hemel sal geloof aanskoue word.

[1] ‘n Doegong is middelmatige grootte seedier met ‘n stert soos ‘n dolfyn, twee syfinne soos ‘n rob, geen vin op sy rug nie, ‘n lyf en kop soos ‘n walrus (dit het nie lang tande soos ‘n walrus nie), ‘n snoet soos ‘n Bullmastiff of ‘n Shar Pei (die hond met die baie los velle). Hierdie diere kom onder andere voor in die Rooisee.

Die ontheiliging van die nagmaal

Lord's Supper

In my jong dae het ons gemeente ná elke eerste Sondag se nagmaaldiens ‘n liefdesmaal gehad. Almal het hulle eie kos gebring en dit met mekaar gedeel: pampoenkoekies, Blue Bonnet rys, gebraaide hoenderboudjies en aartappels, frikkadelle, koolslaai, groenslaai, wortel slaai, vla, malva poeding, koeldrank, en meer.

 

In die eerste paar eeue n.C. het elke gelowige sy eie brood en wyn bygedra vir die nagmaal. Mense het hulle brode op ‘n tafel uitgepak, en die wyn is in een groot silwer beker uitgegooi. Almal het met mekaar gedeel.[1]

 

In Paulus se tyd het die kerk – soos met die Joodse Pasga – ‘n liefdesmaal gehad tussen die brood en die beker (vgl. die beker die ete in v.25, Judas 12).[2]

 

Hou dié dinge in gedagte as jy 1 Korintiërs 11:17-34 lees. Paulus spring heen en weer tussen ooreet, dronkenskap, en honger wees by die liefdesmaal, en die ontheiliging van die nagmaal as gevolg daarvan.

 

Partyskap (v.17-22)

‘n Paar jaar gelede het ons probeer om 14:00 op ‘n Sondagmiddag ‘n Engelse diens te hou. ‘n Afrikaanse vrou het gekom. Later het sy soms die oggend- en aanddienste bygewoon. By een aanddiens het sy die preek onderbreek: ‘Ja, is pastoor!… Amen!… Ja, is so!…’

 

Na die diens het ons gesien sy is dronk. My vriend het vir haar gesê: ‘Jy is altyd welkom by die kerk, maar jy moenie dronk wees en die res steur nie.’ Deur haar sterk drank asem het sy gesê: ‘Ek is nie dronk nie.’ My vriend se reaksie was: ‘Dan lieg jy ook nog!’

 

Om ‘n dronk persoon by ‘n braai, rugbywedstryd, dansklub, of partytjie te sien is normaal. Om ‘n dronk persoon by die kerk te sien is nie. Dis byna gelyk aan lastering as ‘n gelowige die nagmaal so ontheilig (v.17-22).

 

Rakende die liefdesmaal en die nagmaal kon Paulus die Korintiërs nie prys nie: hulle samekoms hiervoor was nie ten goede vir die opbou van die liggaam nie, maar ten kwade (v.17, 30, kontr. v.2). Die nagmaal moes die eenheid van die liggaam uitgebeeld het (10:17, vgl. Johannes 11:52, 13:34-35, 17:21, 23). Paulus het egter by Chloë se gesin gehoor dat die kerk verdeeld was (v.18, 1:10-13).

 

Paulus het die nuus geglo, want partyskap – selfs in die kerk – is deel van ons lot terwyl ons op die aarde is (v.18-19, vgl. Matteus 18:7). God het partyskap toegelaat as ‘n toets om te wys wie eg was, en wie soos ongelowiges optree (v.19, 1 Johannes 2:19).

 

Die teenwoordigheid van brood, wyn, en die samekoms van gelowiges was nie die enigste vereiste, voordat dit die nagmaal van die Here kon wees nie. As die kerk partydig was, hulle kos nie met die armes gedeel het nie, vir hulleself geëet het, en dronk was (v.21), was dit húlle tafel en nie Hére s’n nie (v.20).

 

Paulus was geskok en kon hulle nie prys nie. Die doel van die nagmaal en die liefdesmaal was nie dat hulle hulself moes ooreet nie (v.22). Deur só te eet het die armes niks gekry nie en is hulle verneder (v.22, vgl. Spreuke 17:5, Jakobus 2:6). Die rykes het die kerk verag wat God met sy bloed gekoop het (v.22, Handelinge 20:28).

 

Instelling (v.23-26)

R.C. Sproul vertel hoe hy eenkeer die onvergeeflike sonde van ‘n Seminarium professor gepleeg het, en sy humeur verloor het met ‘n student. In die klas het die student met ‘n arrogante houding gesê: ‘Hoekom moet ons brood en wyn gebruik by die nagmaal? Wat as ek lus is vir Coke en ‘n grondbonebotter en konfyt toebroodjie?’ Sproul het sy stem verhef: ‘Want Jesus het nie Coke en konfyt toebroodjies vir die gebruik van die nagmaal afgesonder nie – Hy het brood en wyn afgesonder!’ Ons ontheilig die nagmaal as ons dit vier soos wat ons wil, en nie soos wat Jesus dit ingestel het nie.

 

Die Korintiërs moes die nagmaal vier soos wat Paulus dit by Jesus ontvang het en oorgelewer het (v.23, 15:3, Galasiërs 1:12).[3] Jesus het die brood gebreek in die nag waarin Judas Hom verraai het (v.23). In die Evangelies het ‘nag’ ook ‘n simboliese betekenis: die magte van duisternis wou die Lig van die wêreld uitdoof (Johannes 3:19-21, 8:12, 13:30, Lukas 23:53).

 

Jesus het brood geneem, omdat Hy self die Brood van die lewe en die Manna uit die hemel is (v.23, Johannes 6:31-35). Let ook op dat Jesus self die brood vir sy dissipels gegee het – hulle het dit nie self geneem nie (v.23). So het Hy gewys dat Hy uit eie keuse sy lewe afgelê het (Johannes 10:18). Daarna het Jesus vir die brood gedank (v.24). Dit was wel ‘n dankgebed vir die kos (1 Timoteus 4:5), maar dit was meer as dit. Dit was ‘n dankgebed vir die verlossing wat Hy vir ons sou bewerk.

 

Hoekom het Jesus die brood gebreek (v.24) as die Skrif duidelik sê dat sy bene nie gebreek is nie (Johannes 19:33, 36)? Dit mag dalk daarna verwys dat Hy gegesel is. Of dit mag na Genesis 15 en Jeremia 34 verwys, waar God ‘n verbond gemaak het deur die diere in twee te sny. Jesus se liggaam is ‘gebreek’ om die verbond te verseël.

 

‘Dit is my liggaam’ beteken nie, soos die Katolieke sê, dat die brood regtig Jesus se liggaam word nie. Jesus het gesê Hy is die ware wingerd (Johannes 15:1), en tog glo ons nie Hy het takke en blare nie. Die brood kán nie regtig Jesus se liggaam wees nie, want Hy was immers in sy liggaam voor die dissipels toe Hy die brood vir hulle uitgedeel het. Jesus se liggaam is nou in die hemel, en by sy koms sal ons Hom sien. Die feit dat Jesus gesê het ons moet dit tot sy gedagtenis eet, wys mos dat Hy nie in sy liggaam teenwoordig is nie (v.24). In die negende eeu het John Scotus Erigena gesê: ‘In communion the believer eats Christ’s flesh mentally, not dentally.’[4] Dit is tog so dat Jesus op ‘n besondere wyse geestelik teenwoordig is in die nagmaal.

 

Jesus het die brood vir sy dissipels gegee (v.24). So het Hy gewys dat sy dood nie maar net ‘n goeie voorbeeld van opoffering is nie, maar dat Hy die straf vir ons sonde op Homself sou neem (Jesaja 53:4-6). Daar is tog ‘n sekere sin waarin Jesus se dood ‘n voorbeeld van opoffering is. Die selfsugtige Korintiërs moes opoffer soos Jesus, en nie aan hulleself gedink het by die liefdesmaal en nagmaal nie (v.24-25, 21-22).

 

Jesus het ook die beker vir sy dissipels gegee (v.25). Hulle moes beide die brood en die beker neem. Die Katolieke is dus verkeerd om net die brood te neem, terwyl die priester alleen die beker drink. Wat word in die beker uitgebeeld? Jesus het die beker van toorn gedrink wat ons verdien (Johannes 18:11, Lukas 22:42, Jesaja 51:17, Jeremia 25:15-29), en vir ons die beker van verlossing gegee (Psalm 23:5, 116:13).

 

Die rooi kleur van die wyn is ‘n prentjie van sy bloed wat die nuwe verbond verseël (v.25, Hebreërs 9:16-22). Die vrug van die wingerd herinner ons daaraan dat Jesus die ware wingerd is (Johannes 15:1).

 

Weereens is dit nie so dat die wyn letterlik Jesus se bloed word nie (‘transsubstansiasie’ is die groot woord). Toe Dawid se manne hulle lewens waag en vir hom water in Betlehem gaan skep, het hy dit op die grond uitgegooi en gesê: “Dit is ver van my, HERE, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed drink van die manne wat met lewensgevaar gegaan het?” (2 Samuel 23:17). Sekerlik het Dawid nie gedink dat die water letterlik in sy soldate se bloed verander het nie. Hy het eenvoudig bedoel dat hulle hulle lewens gewaag het. Net so wys die nagmaalbeker dat Jesus sy lewe vir ons gegee het.

 

Deur die nagmaal te gebruik verkondig ons dat Jesus sy lewe vir ons opgeoffer het aan die kruis (v.26). En sal die Korintiërs nie eers hulle kos opoffer vir die arm gelowiges in die gemeente nie (v.21)?

 

Ons moet die nagmaal gebruik totdat Jesus weer kom (v.26). Dit wys duidelik dat Jesus nie meer dood is nie, maar lewe.

 

Ondersoek (v.27-34)

In die eerste paar eeue het gelowiges elke Sondag die nagmaal gevier.[5] Na die vyfde eeu het ‘gewone’ Christene dit al hoe minder gebruik. Teen die sesde eeu het hulle dit slegs op Kersdag, Paas-Sondag, en Pinksterdag gebruik. Later van tyd het hulle dit glad nie gebruik nie, maar toegekyk hoe die priester die brood eet en die wyn drink.

 

Mense het geglo dat die nagmaal regtig in Jesus se liggaam en bloed verander. Hulle was bang en het onwaardig gevoel om dit te gebruik. Die priesters het gesê dat slegs toegewyde Christene kan deelneem. Hulle het die standaard so hoog gestel dat die beste Christene bang was om die nagmaal te gebruik.[6]

 

Toe Martin Luther in 1507 vir die eerste keer as priester by die tafel gestaan het, was hy doodbang vir die Regter van die hele aarde. Hy wou weghardloop maar het homself gedwing om die mis (die Katolieke naam vir die nagmaal) deur te sien. Dit is glad nie wat Paulus met die onwaardige gebruik van die nagmaal bedoel nie (v.27-34).

 

Paulus wou die ontheiliging van die nagmaal regstel, en daarom het hy die kerk in Korinte gewaarsku (v.27-34, 17-22). Jesus se kruisdood is ‘n ernstige saak, en daarom moes hulle die uitbeelding daarvan nie op ‘n onwaardige wyse gebruik nie (v.27, 21-22). Om so te doen is om teen Jesus se liggaam en bloed te sondig. Dit is asof jy Hom weer kruisig (v.27, Hebreërs 6:6, 10:26, 29).

 

Die Korintiërs moes hulleself ondersoek voordat hulle geëet het: was hulle verdeeld, bitter, skuldig aan ander sondes, of ongered (v.28)? ‘n Gelowige wat sy sonde liefhet, of nie die betekenis van die kruis en die nagmaal onderskei nie, nooi God uit om Hom te oordeel (v.29).

 

Dis juis omdat die Korintiërs hierdie dinge gedoen het dat God baie van hulle met siekte, swakheid, en die dood geoordeel het (v.30, vgl. 1 Johannes 5:16, Handelinge 5:1-11, 2 Samuel 12:14-15, 18). Sommige kommentators dink dat hulle siekte en dood die gevolg was van ooreet, dronkenskap, of geen kos nie. Maar dit blyk eerder dat God bonatuurlik ingegryp het om hulle te dissiplineer.

 

As die Korintiërs hulleself geoordeel en ondersoek het, sou God hulle nie getug en geoordeel het nie (v.31). God het hulle getug sodat hulle van hulle sonde sou wegdraai, en hulle nie uiteindelik saam met die wêreld geoordeel sou word en hel toe gaan nie (v.32).

 

Om God se oordeel vry te spring moes hulle met die armes deel en nie self alles opeet nie (v.33). As hulle honger was moes hulle by die huis geëet het, en dan genoeg kerk toe gebring het om met die armes te deel (v.34). As hulle dít gedoen het, sou God hulle nie geoordeel het nie (v.34).

 

Nou ja, dis al wat Paulus vir nou wou sê. Daar was nog reëlings wat hy sou tref as hy na hulle toe gekom het, maar dit raak die Korintiërs alleen en nie vir ons nie (v.34).

 

Die les uit hierdie hoofstuk is duidelik: moenie die nagmaal ontheilig nie.

 

[1] Jy ontheilig die nagmaal as jy vergeet wat dit Jesus gekos het, as jy dit ligtelik opneem, en as jy daarmee speel eerder as om dit te ontvang met vrees, eerbied, erns, danksegging, lofprysing, en liefde (v.24, 27).

 

[2] Jy ontheilig die nagmaal as jy familiêr raak daarmee, dit beskou as alledaags soos enige ander ete, dit maklik misloop, dit – soos Arthur Pink – vir lang tye nie gebruik nie. Onthou dat dit Jesus se sterwenswens was: eet hierdie brood en drink die beker tot my gedagtenis. Die nagmaal is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag totdat Jesus weer kom (v.24-26). Ons mag dus nie, soos die Heilsleer, besluit om dit glad nie te vier nie.

 

Gedenk dit gereeld (elke week, maand, kwartaal?) sodat jy daardeur Jesus se kruisdood vir jou sondes kan onthou (v.26, Handelinge 2:42, 46). Dit sal jou help om nie met sonde te speel nie, maar ook dat jy nie moedeloos word en daarin wegsink nie.

 

[3] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie omgee vir die eenheid van die liggaam nie, as jy dit op jou eie, saam met jou vriende, of saam met jou gesin vier (let op hoe Paulus in v.17-18, 20, 33-34 die woord ‘saamkom’ gebruik). Toewyding aan die nagmaal en gesamentlike gemeenskap gaan hand aan hand (Handelinge 2:42).

 

[4] Jy ontheilig die nagmaal as jy verdeeld, vyandig, of bitter is (v.18-19). In dié geval is dit nie die nagmaal wat jy gebruik nie (v.20). As jy onenig is met ander gelowiges, moet jy dit vandág regstel. Bely jou sonde, vergewe jou broer, raak versoen. Jesus het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” (Matteus 5:23-24). “vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efesiërs 4:32).

 

Moenie wag totdat die persoon sterf, sodat jy by sy graf moet sê: ‘Was dit regtig nodig dat ek ‘n wrok moes dra? Hoekom het ek dit nie maar net uitgesorteer nie?’

 

[5] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie jou hart ondersoek vir sonde nie; as jy nie berou het, jou sonde bely, dit haat, en daarmee ophou nie (v.28, 5:11). ‘Trek jouself aan in die spieël van die Skrif, voordat jy na die nagmaaltafel toe kom.’[7] Voordat jy kerk toe kom moet jy jou hart voorberei. Pa’s moet hulle gesinne hierin lei. Waak tog op Saterdae en Sondae vir die versoekings van die duiwel, die vlees, en die wêreld.

 

[6] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie die betekenis van die kruis, die brood, en die wyn verstaan nie (v.29). Juis om dié rede moet klein kinders nie die nagmaal gebruik nie.

 

[7] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie gered is nie (v.28). “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef.” (2 Korintiërs 13:5). Jy bely dat Jesus vir jou sonde geoffer is, maar geniet die eindste sonde waarvoor Hy gesterf het. So maak jy ‘n bespotting van die nagmaal. Moenie dink jy kan lewe soos jy wil, omdat Jesus vir jou gesterf het nie. As jy met jou sonde aanhou sal jy self die beker van God se toorn moet drink (Openbaring 14:10). Bely dan jou sonde, bekeer jou, en rus in volle vertroue op Jesus se kruisdood en opstanding.

 

[8] Jy ontheilig die nagmaal as jy dit aanbid asof dit towerkrag het, en dit nie sien as iets wat na Jesus toe wys nie. Die Katolieke beskou die nagmaal as ‘n offer wat ons sondes vergewe. Sekere Protestante maak asof die bloed van Jesus towermag het om hulle huise, karre, en kinders te beskerm. Party charismatiese Christene glo dat die nagmaal krag het om siektes te genees. Hulle fokus dus op die teken, en nie op dít waarvan die teken getuig nie.

 

[9] Jy ontheilig die nagmaal as jy dit gebruik of daarvan af wegbly op grond van hoe waardig jy voel, eerder as om ten volle op Jesus se perfekte kruisoffer te vertrou. Jy is soos iemand wat sê: ‘Ek voel nie goed nie, en daarom sal ek nie dokter toe gaan nie.’

 

Ontheilig jy die nagmaal? Die oplossing is nie om weg te bly, totdat jy reg voel nie. Jy moet juis nié wegbly nie, maar na die tafel toe kom om dinge reg te stel. As jy van die tafel af wegbly sê jy indirek dat jy dit nie wíl regstel nie, maar aanhou met jou sonde.

 

Die oplossing is om jou voor te berei soos hierbo verduidelik. Selfs as jy jou vir die nagmaal voorberei het, moet jy nie op jou voorbereiding vertrou nie, maar op Jesus alleen. Ook jou gebede en jou belydenis moet gewas wees in die bloed van Jesus. Ja, wanneer jy by die tafel aansit moet jy besef dat jy ‘n ellendige sondaar is. Maar fokus op Jesus se kruisdood en nie op jou sonde nie. ‘For every one look at sin, take ten looks at Christ.’ (Edward Welch).

 

Hoekom moet jy nie die nagmaal ontheilig nie? Jy sal siek word, sterf, of saam met die wêreld geoordeel word as jy jou nie bekeer nie (v.30, 32).

 

Toe ek op Seminarium was het een van my dosente ons vertel van ‘n jong student wat op Cornelia moes preek. By die nagmaaltafel het hy ‘n stoel nader getrek. Hy het sy voete oor die stoel laat rus en vir die mense gesê: ‘Ek gaan nie vandag vir julle preek nie. Ek wil net ‘n bietjie met julle gesels.’ Die mense was baie ontsteld.

 

Dalk dink jy dat uiterlike aksies nie saakmaak nie. ‘God kyk na die hart,’ sê jy. Jy’s reg. Tog sal iemand wat in sy hart eerbied en liefde het vir Jesus en die evangelie, dit uiterlik wys deur hoe hy met die nagmaal omgaan.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.71

[2] Hofius in David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.546

[3] Paulus het nie sy lering oor die nagmaal by die ander apostels gekry nie. 1 Korintiërs is waarskynlik voor enige van die Evangelies geskryf.

[4] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, p.69

[5] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.68

[6] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, pp.62-63

[7] Thomas Watson, The Lord’s Supper, p.40