‘n Boodskap oor vermetelheid en dronkenskap

Drinking

Tydens een aanddiens het ‘n dronk vrou aanhoudend die preek onderbreek.  ‘Amen!  Ja, is pastoor!  Amen!’ het sy gesê.  By drie ander geleenthede het mense wat vol van dwelms was my straat prediking geopponeer.  Een man het my gevloek, ‘n ander een met my sleggesê, en die ander een het uitgeroep dat ons nie van God af is nie.

 

So het die dronk mense in Jes. 28:1-13 vir Jesaja geopponeer.  Die Here het hom met ‘n boodskap teen hulle gestuur.  Dit was hoofsaaklik ‘n boodskap oor hulle vermetelheid en dronkenskap.

 

Samaria se gemak (v.1-6)

Holland is ‘n streek aan die weskus van Nederland, maar die naam word ook gebruik om na die land in sy geheel te verwys.  Dieselfde was waar van Efraim:  dit was een van die twaalf stamme, maar is later gebruik om na die hele noordelike ryk van Israel te verwys (bv. in Hosea).

 

Toe Salomo dood is, het Israel in twee geskeur.  Samaria was die hoofstad van die noordelike ryk, terwyl Jerusalem die hoofstad van die suidelike ryk was.  In v.1-6 het Jesaja God se weë of oordele oor die noordelike ryk uitgespreek.

 

Samaria was op ‘n heuwel gebou (1Kon. 16:24).  Die stadsmure het soos ‘n kroon op iemand se kop gelyk (v.1).  ‘n Groen vallei van wingerde het Samaria omring; die stad het soos ‘n pragtige blom uitgestaan (v.1).  Samaria se inwoners was trots op hulle ‘kroon’ (v.1).  As God se volk het hulle vas geglo dat hulle veilig is.  Gevolglik het hulle ‘n gemaklike lewe van dronk partytjies gelei (v.1, Amos 2:8, 4:1, 6:6).

 

Hulle het nie opgemerk dat die blom besig is om te verlep nie (v.1, 40:6-8).  In 722 v.C. het die Here Assirië soos ‘n verwoestende haelstorm teen Samaria gestuur en haar in die vloed van sy oordele verdrink (v.2, 8:7).  Hy het die stad op die grond gegooi, die kroon en die pragtige blom onder sy voete vertrap (v.2-4a).  Deur Assirië het Hy Samaria soos die eerste ryp na-vy van die seisoen gepluk en ingesluk (v.4b).

 

Deur die Messias se Koninkryk sal God self ‘n kroon van heerlike skoonheid vir die oorblyfsel van sy volk sal wees, en sal Hy die ongeregtigheid uit Israel en die res van die aarde verwyder; Hy sal ‘n gees van geregtigheid in Israel en die wêreld se regsisteme gee (v.5-6, 11:2).  Hy sal ook sy kinders versterk om die vyand van die stadspoorte af weg te hou (v.6).  Hy sal m.a.w. sy volk beskerm.

 

Hoe moet ons v.1-6 op onsself toepas?  Soos Samaria is die mens van nature hoogmoedig en dink hy dat God se oordele hom nie sal tref nie (v.1).  Hy dink dat hy die hemel verdien, en dat dit nie dieselfde sal wees sonder hom nie.[1]

 

Jonathan Edwards het gesê:  ‘Byna elke ongelowige wat van die hel hoor, vlei homself dat hy dit sal ontvlug.  Hy maak op homself staat vir sy eie veiligheid.  Hy vlei homself op grond van wat hy gedoen het, wat hy nou doen, en wat hy beplan om te doen.  Hy dink hoe hy God se verdoemenis kan vermy, en vlei homself dat hy ‘n goeie plan uitgedink het, en dat sy planne nie sal misluk nie.  Hy hoor dat min mense gered is, en dat die meeste van hulle gesterf het en hel toe is.  Maar hy verbeel hom dat hy beter as ander mense vir sy ontvlugting beplan het.’[2]

 

Dit gebeur veral met dié wat sê dat hulle God se kinders is, maar dit nie is nie (soos Samaria).  Hulle dink dat hulle doop, kerklidmaatskap, tiendes, getuienis van redding of ouderlingskap hulle teen God se oordele sal beskerm, en dat hulle dus in hulle sonde kan voortleef.  Hulle sit snoesig en veilig in die kerkbanke, en dink dat God se toorn hulle nie daar kan bereik nie (Jer. 7:4, Amos 6:1, Matt. 22:11-13).

 

Hulle glo vas dat hulle ‘n blom in Jesus se tuin is, en dat Hy hulle eendag as ‘n pêrel vir sy kroon gaan kom haal.  Hulle herinner hulleself aan God se liefde, en sê vir hulleself dat Hy nie so sterk oor hulle sonde voel soos oor die moordenaar en verkragter s’n nie.  ‘Eens gered, altyd gered!’ is die skuilplek wat hulle oprig om hulle teen God se toorn te beskerm.  Dit is so dat geen gelowige sy redding kan verloor nie, maar hierdie mense gebruik dit as ‘n lisensie om hulle sonde te doen (v.1, Rom. 6:1).

 

So seker as wat die Here leef, Hy sal hulle onder sy voete vertrap, die trotste kroon van hulle koppe afruk en hulle in die hel gooi (v.3-4).  Hy sal hulle in die vloed van sy oordele verdrink (v.2).  Die hel maak sy mond wyd oop om hulle in te sluk (v.4).  Al wat hulle terughou is die genade van God.

 

As jy jou sonde haat en jou daarvan bekeer het, is jy nie die persoon van wie ek sopas gepraat het nie.  Jy hoef daarom nie vanaand wakker te lê nie.  Die persoon wat ek hierbo beskryf het, gebruik God se genade as ‘n dekmantel om sy sonde te regverdig.  Hy weet dat die Here hom vir sy sonde gaan oordeel, maar doen dit in elk geval omdat hy dink dat hy altyd weer vergifnis kan vra.  Hy besef nie dat sy lewe van sonde besig is om hom hard te maak, sodat hy later nie meer ‘n begeerte sal hê om na die Here toe te draai nie.

 

Hy verdedig sy sonde deur te sê dat hy darem nog kerk toe gaan, die Bybel lees en bid.  Hy dink dat sy ‘goeie stiltetye’ ‘n aanduiding is dat sy dronkenskap of egbreuk nie verkeerd is nie, en dat die Here met hom tevrede is.  Hy is al so ver heen, dat sy gewete hom nie meer pla nie.  Hy is soos Jona wat in die storm slaap, en soos Samaria wat rustig sit en drink terwyl die storm van God se oordeel oor hulle broei.

 

Hy is soos die los vrou in Spr. 7:14 wat gedink het dat haar godsdienstige aksies haar sonde uitbalanseer, en dat die Here dit daarom nie ernstig opneem nie.  Ander mense kan sien dat hy op die verkeerde pad is, maar hy ontken dit.  Soos Israel van ouds raak hy kwaad as God se boodskappers sy sonde uitwys (2Kron. 16:10).

 

Hy lees daarom net die verse oor God se genade en liefde, omdat dit hom lekker laat voel (2Tim. 4:3-4).  Hy het geleer om die dele uit te blok wat oor God se heilige karakter, sy oordele en sy haat vir sonde gaan.  Hy het sy eie goedkoop teologie van genade en van Jesus se kruisdood geformuleer.  In sy oë beteken Jesus se kruisdood dat sy sonde vergewe is, en dat hy daarmee kan aanhou.  Wat God se genade betref dink hy dat dit oneindig is, en dat God se geduld nooit opraak nie.

 

Maar waar het die Here ooit gesê dat sy genade geen perke het nie?  Wys tekste soos Heb. 6:4-6 nie duidelik dat sommige mense die grens van God se genade oorskry, en dat hulle daarna nie weer kan terugkeer nie?  En het Jesus nie self gesê dat daar so iets soos die onvergeeflike sonde is nie?

 

As jy jouself dan ‘n Christen noem en met sonde besig is, moet jy jou ore spits.

 

Jerusalem se feesviering (v.7-13)

Paul Kruger het drank gehaat en net melk gedrink.  En tog het hy geglo dat dit nie sonde is as iemand drank gebruik nie.  ‘Drank is ‘n gawe van God aan die mens, en as dit in matigheid gebruik word is dit nie sonde nie,’ het hy gesê.  Hy het verstaan dat dit verfrissend kan wees na ‘n dag se harde werk.  Wat hy gehaat het was dronkenskap.[3]  En dit is presies die punt in v.7-13.

 

Samaria het hulleself dronk gedrink en onder God se oordeel beland.  En het die leiers van Jerusalem regtig gedink dat húlle daarmee gaan wegkom?  Die priesters en profete moes God se Woord vir die volk bring en vir hulle wys hoe om dit in hulle lewens toe te pas.  Maar hulle kon dit nie doen nie, omdat hulle dronk was (v.7, 5:11, 22).  Hulle was so dronk dat die tafels vol van opgooi was (v.8).

 

Hoekom was hulle dronk?  Hulle het fees gevier, omdat Egipte belowe het om hulle teen Assirië te help (v.15, 30:1-7).  Soos met baie ongelowiges, het hulle die goeie tyding met drank gevier.  Hulle het die wyn ingesluk, maar op die einde het dit hulle ingesluk (v.7).  Die drank het hulle verwar en gemaak dat hulle nie goeie leiding kon neem nie (v.7).  Hulle visioene het nie van die Here af gekom nie, maar die alkohol het gemaak dat hulle snaakse dinge sien (v.7).  Hulle kon nie meer tussen reg en verkeerd onderskei nie; die drank het gemaak dat hulle die reg verdraai en verkeerde dinge sê (v.7).  Dié wat hulle geraadpleeg het kon net sowel ‘n dronk predikant vir berading gevra het, of vir ‘n dronk prokureur gevra het om hulle saak te beveg.

 

Terwyl die geestelike leiers dronk om die tafel gesit het, het Jesaja ingestap.  ‘Vir wie wil jy kennis leer en God se boodskap verduidelik – vir babas wat nog melkies drink?’ het hulle gesê (v.9).  ‘Jy gee mos melk vir die volk, asof hulle kinders is:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie.’ (v.10).

 

Maar Jesaja het juis so gepreek, omdat die volk a.g.v. sulke leiers geestelike babas was, en nie die vleis en aartappels van God se Woord kon verteer nie – hulle het melk nodig gehad.  Hy het dus eenvoudig gepreek, sodat almal dit kon verstaan, en sodat hulle nie ‘n verskoning gehad het vir waarom hulle hulle nie bekeer het nie.  Jesaja het die volle waarheid van God vir die volk gegee; Hy het niks uitgelos of oorgeslaan nie (v.10).  Maar Jerusalem en haar leiers het sy prediking geïgnoreer (2Kron. 36:15-16).

 

Gevolglik sou die Here hulle deur mense van ‘n vreemde taal getugtig het (v.11).  In die Ou Testament was Assirië en Babilon die vreemde nasies deur wie Hy sy volk getugtig het (v.11, Deut. 28:49, Jer. 5:15).  In die Nuwe Testament was ander lande se tale die teken dat die Here sy volk deur die Romeine – ‘n volk wat ‘n ander taal gepraat het – sou tugtig, en dat Hy die evangelie van die Jode af sou wegneem om dit na alle tale toe te versprei (Hand. 2:4-13, 14-23, 36).

 

God het die evangelie by sy volk weggevat, omdat hulle die eenvoudige verkondiging daarvan in hulle eie taal verwerp het (v.9-10).  Hulle wou nie die rus van sy verlossing gehad het nie, maar het dit van die hand gewys (v.12, 30:15, Matt. 11:28-30).  Hulle het eerder in Egipte en hulle eie planne gerus as in die Here (v.12, 15-16).

 

Israel het God se volledige Woord in hulle eie taal verwerp, en daarom het Hy sy oordele in ‘n taal aangekondig wat hulle nie verstaan nie (v.11, 13).  Het Jesus nie in gelykenisse gepreek wat die volk nie verstaan het nie (Matt. 13:10-17)?  Dit is byna of Hy gesê het:  ‘Toe dit verstaanbaar was, wou julle nie luister nie.  Nou sal Ek dit so eenvoudig maak, dat wyse en geleerde mense dit nie kan uitwerk nie, maar dat net geestelike kinders dit kan verstaan’ (Matt. 11:25).

 

Omdat die Jode se geestelike leiers die boodskap nie verstaan het nie, het hulle hulle nie bekeer nie.  En omdat hulle hulle nie bekeer het nie, het hulle in die vyand se vangnet beland en is hulle weggevoer (8:15).

 

So was dit ook in die Nuwe Testament.  Die volk en haar geestelike leiers het die Woord nie verstaan nie.  Gevolglik het hulle hulle nie tot die Messias bekeer nie, maar Hom gekruisig.  In 70 n.C. het die Here hulle hiervoor geoordeel.  Hy het sy Woord vir die Jode weggesteek en dit na die heidene toe gestuur (6:9-10, Amos 8:11, Hand. 28:25-28).  Dit is wat gebeur wanneer mense elke geleentheid in die wêreld het om die Woord eenvoudig te hoor (gesonde kerke, goeie preke op die internet, goeie Christelike boeke, ens.), maar nie daarop ag gee nie.

 

Wat het v.7-13 vir ons te sê?

 

[1] Persoonlik verkies ek dit om glad nie te drink nie.  Ek wil nie aspris iets voor iemand drink as dit hom in die versoeking gaan bring, of as dit sy gewete gaan pla nie (Rom. 14:21, 1Kor. 8:13).

 

En tog sê die Bybel nie dat dit sonde is as iemand ‘n glas wyn of ‘n bier drink nie.  In Deut. 14:26 het die Here vir Israel gesê dat hulle wyn of sterk drank by hulle feeste mag drink.  Ps. 104:15 sê dat wyn ‘n gawe van God is om die mens ontspanne en gelukkig te maak.  In 1Tim. 5:23 het Paulus vir sy jong vriend gesê om nie net water te drink nie maar ook wyn, sodat die alkohol die kieme in sy maag kan doodmaak.

 

Ons weet ook dat Jesus wyn gedrink het (Matt. 11:19).  Party mense dink dat die wyn in Jesus se tyd met water verdun is, en dat daar skaars alkohol in was.  Maar dit was nie altyd die geval nie.  Jesus het bv. die water in wyn verander, en nie die goeie ‘ou’ wyn met water verdun nie.  Ons weet ook dat daar genoeg alkohol in die wyn was om ‘n mens dronk te maak (v.7, 1Kor. 11:21).

 

En dít is juis waar die probleem lê:  ons moenie so baie drink dat ons dronk word nie (v.1, 7-8).  Ongelowiges gebruik elke geleentheid om dronk te word:  restaurante, motorfiets klubs, sosiale geleenthede, sport byeenkomste, partytjies, jaareindfunksies, jag, visvang, Kersfees, ens.  Wanneer ongelowiges rustig en gemaklik voel, drink hulle.  Wanneer hulle bly is, drink hulle.  Wanneer hulle depressief is, drink hulle.  Wanneer hulle bekommerd is, drink hulle.  Wanneer hulle probleme het, drink hulle.  Wanneer hulle verward en verlore voel, drink hulle.

 

Drank is hulle baas, omdat Jesus nie is nie (v.12, 7).  As hulle net na Jesus toe wil kom sal Hy hulle vry maak en die leemte in hulle siele vul (Joh. 4:14, 8:36).  Sy Persoon, kruisdood, opstanding en die Heilige Gees is meer as bekwaam om met hulle drank probleem af te reken.  Jesus kan hulle dors beter les as wat die drank kan, maar hulle glo dit nie, en daarom bly hulle vasgevang in die net van hulle sonde.

 

[2] ‘n Ongelowige wat jare gelede ons dienste bygewoon het, het by ‘n ander gemeente se kerkkamp vir die leraar gevra of sy en haar kêrel ‘n kamer kan deel.  Hy het nee gesê.  ‘Maar ons is mos nie meer kinders nie,’ was die vrou se reaksie.  Soos die vals profete in v.9-10 het sy gemaak of die Bybel se verbod teen seks buite die huwelik kinderagtig is.

 

Mense soek allerhande verskonings om nie dit-en-dat in die Bybel te aanvaar nie.  Soms sê hulle dat dit nie duidelik genoeg is nie.  Ek dink bv. aan God se lering oor homoseksualiteit en seks voor die huwelik.  Mense sê dat dit nie duidelik genoeg is nie, terwyl die waarheid is dat ‘n kind dit kan verstaan (v.9-10).  Maar die rede hoekom dit volgens hulle nie ‘duidelik’ is nie, is omdat hulle nie hulle sonde wil los nie.

 

[3] Ons moet die volle raad van God verkondig:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie (v.10, Hand. 20:27).  Om hierdie rede glo ek dat Skrif verklarende- of eksposerende prediking die beste is (Neh. 8:9).  Jy preek nie net die tekste waarvan jy hou nie, maar ook die dele wat moeilik is om te sluk.  As ‘n mens vers vir vers deur boeke van die Bybel preek, kan niemand sê:  ‘Jy het aspris daardie teks gekies om my aan te spreek’ nie.  Nee, ek het nie.  Ek het net die volgende gedeelte gepreek.

 

Eksposerende prediking gee vir die skape ‘n gesonde, gebalanseerde dieet van die Woord.  God het die Bybel in boeke, verse en hoofstukke geskryf, en daarom moet ons dit ook so preek.  Hy het elke detail daarvan geïnspireer, en daarom moet ons elke detail daarvan preek (2Tim. 3:16-4:2).

 

[4] In 1Kor. 14:21 haal Paulus Jes. 28:11 aan om te wys dat gemeentes wat in tale praat sonder dat dit uitgelê word, onder God se oordeel is (vgl. Gen. 11:1-9, 1Kor. 14:22).  Wees dan versigtig vir charismate wat in tale praat, sonder dat daar ‘n uitleg is.

 

Rowland Hill was ‘n Engelse prediker in die 18de en 19de eeu.  ‘n Dronk man het eenkeer na hom toe gekom en vir hom gesê.  ‘I am one of your converts, Mr. Hill.’  ‘I dare say you are, but you are none of the Lord’s, or you would not be drunk,’ het die wyse mnr. Hill geantwoord.[4]

 

Behoort jy aan die Here?  Moet dan nie soos Samaria en Jerusalem toelaat dat alkohol of enige iets anders jou beheer nie, maar word vervul met die Heilige Gees (Ef. 5:18).

 

[1] R.C. Sproul, The Holiness of God, Tyndale House Publishers, Carol Stream: Illinois, 1985, 1998, p.150

[2] Vry vertaal uit Jonathan Edwards, Works: Vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1834, 1974, 1976, p.8

[3] Martin Meredith, Diamonds, Gold and War, PublicAffairs, New York, 2007, 2008, p.170

[4] Aangehaal in C.H. Spurgeon, The Soul Winner, Whitaker House, New Kensington: PA, 1995, p.32

Advertisements

Die gat in ons opvoeding

Family Worship

Daar is ‘n predikant in Johannesburg vir wie ek die wêreld se respek het.  En tog het hy voete van klei soos die res van ons.  Oor huisgodsdiens het hy vir my gesê:  ‘It is a cultural monkey we need to get off our backs.’  Ps. 78:1-8 stem nie met hom saam nie, maar dink dat huisgodsdiens baie belangrik is.

 

Hoe moet jy jou kinders leer? (v.1-5)

M.b.t. huisgodsdiens en die huwelik, het ‘n vriend van my in Limpopo my baie beïnvloed.  Van die dinge wat ons oor die jare in ons huisgodsdiens gedoen het, het ek by hom geleer.  A.g.v. hulle ouerskap en huisgodsdiens, vra hulle vyfjarige uit die bloute vir kuiergaste:  ‘Can I get you something?’  Volgens Ps. 78 is die invloed wat ‘n ouer op sy of haar kinders het, veel groter as wat ons besef.

 

Asaf het hierdie Psalm en elf ander geskryf (v.1, Pss. 50, 73-83).  Hy was ‘n musikant wat in Dawid se tyd die koor gelei het (1Kron. 15:16-17, 19, 16:4-5, 7).  Hy het hierdie Psalm geskryf om vir sy lesers lesse uit Israel se geskiedenis te leer (v.1).  Hy het musiek gebruik [Heb. maskîyl], sodat hulle dit makliker kon onthou (v.1).

 

Omdat die mens nog steeds so leer, is dit belangrik dat jy God se Woord vir jou kinders sing.  Leer vir hulle Bybelverse in sang.  Vermy maar die meeste kinderliede, omdat dit oppervlakkig is en nie ‘n hoë siening van God kweek nie.  Leer eerder vir hulle liede wat diep waarhede bevat, en sê vir hulle wat die woorde beteken.

 

Israel moes hulle ore vir Asaf se onderrig gespits het (v.1, kontra Hand. 7:51).  Ons moet dit ook doen, sodat ons ons kinders reg kan leer.  Ons moet ‘n hoë siening van die Bybel hê en glo dat dit nie die opinies van mense is nie, maar die Woord van God (v.1, 1Tess. 2:13, 2Tim. 3:16, 2Pet. 1:20-21).  Ons moet dit gereeld inneem en toepas.  Ons ore moet oop wees vir die Woord, en ons kinders s’n ook.  Hoe kan jy dit regkry?

 

  • Moenie toelaat dat jou kinders gereeld huisgodsdiens mis, omdat hulle moet leer, by vriende is, uitgaan of skool aktiwiteite het nie.
  • Sorg ook dat jý dit nie mis, omdat jy altyd by die werk is nie.
  • Moet dit nie te laat in die aand doen wanneer almal moeg is nie.
  • Moenie toelaat dat jou kinders lê of speel terwyl jy met die Bybel besig is nie. Hulle moet regop sit en nie die res se aandag aftrek nie.
  • Vat jou kinders gereeld kerk toe. Moet hulle nie alleen stuur, omdat jy op Sondae jou eie ding doen nie.  Onthou dat dit die Here se dag is.  Doen jou werk, inkopies, sport, partytjies, wasgoed, ens. in die week of op ‘n Saterdag.  Moenie toelaat dat hierdie dinge jou van die Woord af weghou nie.
  • Probeer om die Woord in te neem wanneer jy dit op ‘n Sondag hoor. Rus genoeg op Saterdae, sodat jy nie op Sondae tydens die diens slaap nie.
  • Maak vooraf jou hart stil, sodat jy nie gedurende die preek aan die week se probleme dink nie. Pasop vir die duiwel wat jou aandag wil aftrek.
  • Bely en laat staan jou sonde, sodat dit jou nie doof maak vir die Woord nie.
  • Dissiplineer jouself om stil te sit en te luister. Moenie rondloop tydens die preek nie.

 

Die bg. dinge help nie as jy ongered is nie (1Kor. 2:14).  Jy moet eers deur geloof deel van God se volk wees (v.1, 1Pet. 2:9-10).  Die Heilige Gees moet jou dowe ore oopmaak om te verstaan dat jy a.g.v. jou selfsug en sonde ‘n terroris in God se Koninkryk is.  Ek hoef nie vir jou te sê wat God met terroriste doen nie.

 

En tog is jou toestand nie hopeloos nie.  God kan jou uit die straf kamp van jou sonde bevry.  Gebruik die sleutels van geloof en bekering om uit te kom.  Wees dankbaar dat Jesus namens jou in die straf kamp gesterf het.  Wees ook dankbaar dat Hy uit die dood uit opgestaan het, en dat jy saam met Hom in sy Koninkryk van liefde kan lewe en met oop ore die pragtige musiek van die Woord kan geniet.

 

As jy gered is, moet jy hierdie evangelie met die volgende geslag deel.  Hoe moet jy dit doen?  Gebruik gelykenisse, stories, beelde en illustrasies, sodat hulle as’t ware die waarheid in hulle verbeeldings kan sien (v.2, Matt. 13:34-35).  Jy hoef nie eers illustrasies uit te dink nie; die Bybel is vol daarvan.

 

As jy bv. geloof wil verduidelik, kan jy vir hulle vertel hoe ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke wegsteek, sodat die valk hulle nie kan vang nie.  As ons in Jesus glo, is ons veilig onder sy vlerke, en kan die valk van sy toorn ons nie vang nie.  Jesus het reeds aan die kruis die straf gedra wat ons verdien.

 

Om God se verlossing verder te verduidelik, kan jy vir hulle vertel dat ons soos stoute kinders is wat van die huis af wegloop en ons ouers se geld mors.  Bekering is soos ‘n rebelse kind wat alles verloor, tussen die varke beland, tot sy sinne kom, berou het oor wat hy gedoen het, en na sy huis toe terugkeer.  Vergifnis is soos ‘n pa wat na hierdie rebelse kind toe hardloop, hom omhels en soen, vir hom geskenke gee en ‘n groot partytjie hou.

 

Maar om net illustrasies te gebruik is nie genoeg nie.  Sonder die Heilige Gees bly die evangelie ‘n raaisel uit die verlede, en kan mense dit nie verstaan nie (v.2, Matt. 13:9-17).  Moet dan nie net die Bybel vir jou kinders uitlê nie, maar bid dat die Here hulle harte sal oopmaak, sodat hulle die ou ou tyding kan verstaan (v.2, Jer. 6:16, Hand. 16:14).

 

Herhaling is belangrik.  Israel was nie onbekend met die dinge wat Asaf in hierdie Psalm geskryf het nie.  Hulle het die stories by hulle ouers gehoor en goed geken (v.3, 44:2).  En tog het Asaf hulle daaraan herinner.  Doen dieselfde met jou kinders.  Leer hulle aanhoudend, sodat hulle die Woord kan onthou (2Pet. 1:12-15).

 

Verder moet jy ook die lesse in mense se lewens gebruik om jou kinders te leer (Rom. 15:4, 1Kor. 10:11).  Die lewe van Josef wys bv. hoe God mense se sonde gebruik om sy goeie planne uit te werk.  Maar dit beteken nie dat jy opsetlik moet sondig nie.  Die geskiedenis van Adam en Eva wys dat sonde ernstige gevolge het.  Die storie van Rut wys dat God elke tree van die pad beplan het, al voel dit partykeer of Hy jou verlaat het.  Jesus wat die storm stil maak wys vir ons dat Hy God is, en dat niks vir Hom onmoontlik is nie.

 

Onthou asb. dat God die hoofkarakter in elke storie is, en dat die les altyd oor Hom moet gaan.  As jy jou kinders bv. van Dawid en Goliat vertel, is die punt nie dat God groot potensiaal in onbelangrike mense sien nie, maar dat Hy so sterk is dat Hy ‘n seuntjie met ‘n slingervel kan gebruik om ‘n gewapende reus dood te maak.

 

As jy jou kinders só leer, sal hulle die Here vrees, liefhê en bewonder.  As jy egter ‘n Kinderbybel of VeggieTales DVD met snaakse prentjies in gebruik, sal hulle Hom nie ernstig opneem nie.  Dit sal wees soos ‘n preek wat ek 2012 gehoor het.  Dit het oor die erns van sonde gegaan.  Die prediker se uitleg van Agan se sonde in Jos. 7 was goed, maar hy het soveel humor gebruik dat ‘n mens die idee gekry het sonde is glad nie ernstig nie.  Let op wát jy vir jou kinders leer, maar ook op die manier wat jy dit doen.

 

Asaf sê verder dat ons nie die Woord vir ons kinders moet wegsteek nie, maar dat ons hulle van sy heerlike en kragtige dade moet vertel (v.4).  Daar is ouers wat hierdie dinge vir hulle kinders wegsteek, omdat hulle nie tyd maak vir huisgodsdiens nie, omdat hulle hulle ongereeld kerk toe bring, omdat hulle nie van ‘n persoonlike verhouding met die Here getuig nie (hulle kinders sien nie dat hulle die Bybel lees en bid nie), en omdat hulle onheilige lewens die waarheid verbloem.  Moenie so wees nie, maar bely jou sonde.  Vra die Here se hulp om te doen wat reg is.

 

Om die Bybel vir jou kinders te leer is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag (v.5).  Jy móét dit doen.  Die Bybel is nie net vir jou persoonlike stiltetyd bedoel nie, maar sodat jy jou kinders van die Here kan leer (v.5).  Dit help nie jy deel die evangelie met die nasies, terwyl jou eie kinders oppad hel toe is nie.  Om jou kinders effektief te leer, moet jy die volgende dinge doen:

 

[1] Voor jy jou kinders leer moet jý die Here vrees, glo dat Hy die enigste God is, Hom met alles in jou liefhê, die Bybel ken, in jou hart bêre en gehoorsaam wees (Deut. 6:1-9).  As jy sê maar nie doen nie, sal hulle jou, die Here, of beide verag.

 

[2] Huisgodsdiens gebeur nie vanself nie; jy moet daarvoor beplan.  Hoe laat gaan jy dit hou en wanneer gaan jy begin?  As jy nie beplan nie, sal jou besige program huisgodsdiens eenkant toe skuif sodat dit nie gebeur nie.

 

[3] Leer jou kinders om die Here in die gemeente te dien (1Kor. 16:15).  In die begin kan hulle klein dinge doen, soos om iets vir ou mense aan te dra.  Sorg ook dat jy gereeld ander gelowiges in jou huis het (Heb. 13:2).  Gasvryheid is ‘n goeie manier om diensbaarheid vir jou kinders te leer.

 

[4] Skerp die Woord by hulle in (Deut. 6:7).  Leer hulle elke dag.  Hou dit kort en eenvoudig as die kinders klein is.  ‘n Puritein genaamd Samuel Lee het gesê:  ‘A young plant may be quickly overloaded with manure and rotted with too much watering.’[1]  As jy dus vir ‘n tweejarige die skeppingsverhaal vertel, moet jy nie die hele hoofstuk lees nie.  Sê eerder:  ‘God het alles gemaak:  die son, die maan, die vissies, die voëltjies, die diere.  Heel laaste het hy mense gemaak.  God is baie sterk en goed.’  As jou kinders ouer is, kan jy ‘n paar verse lees en dit uitlê soos wat jy aangaan.

 

Jy kan ook Bybel Vrae en Antwoorde by Augustine Bookroom in Pretoria bestel.  Dit leer hulle op ‘n vraag en antwoord basis oor God, die skepping, die sondeval, verlossing, Jesus, die Tien Gebooie, die doop en die nagmaal, gebed, die dood, die hemel, die hel en meer.

 

Begin as jou kinders ‘n paar maande oud is – jy sal verbaas wees hoe gou hulle leer.  Vra ‘n vraag tot hulle dit ken (‘Wie het jou gemaak? God’), en beweeg dan na die volgende vraag toe.  Hersien die vrae wat hulle ken.  As hulle ouer is, kan jy die antwoorde bespreek:  ‘Is jy deur toeval of evolusie hier?  Nee, God het my oor ‘n tydperk van 9 maande in die baarmoeder gevorm.’

 

Spreuke werk ook vir ouer kinders, aangesien dit geskryf is om vir hulle basiese lewenswysheid te leer (Spr. 1:4, 8, 2:1, 3:1, 4:1, 5:1, 6:1, 7:1, ens.).  Dit sal hulle leer om hard te werk en nie lui te wees nie, die regte vriende te kies, goed te werk met geld, te veel drank te vermy, hulle emosies en hormone te verstaan en te beheer, ens.

 

Karaktertrekke werk ook goed.  Leer bv. vir hulle ‘n maklike definisie van volharding (‘moenie gou opgee nie’), en memoriseer ‘n gepaste Bybelvers:  “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal. 6:9).  As hulle die karaktertrekke goed ken, kan jy dit handig gebruik:  ‘Ek weet jy wil graag in die eerste span wees, maar moenie so gou opgee nie; hou aan om hard te oefen.’

 

Saam met al hierdie dinge moet jy die evangelie met jou kinders deel.  Dit is nie genoeg om hulle van die tien plae of Daniël in die leeukuil te vertel nie.  Te veel ouers neem aan dat hulle kinders gered is, omdat hulle in ‘n Christelike huis grootword, of omdat hulle as babas gedoop is.

 

Jy móét vir jou kinders sê dat hulle nie a.g.v. jóú geloof gered is nie.  Hulle is met ‘n sondige natuur gebore en sondig van kleins af (Ps. 51:7, 58:4).  Omdat die Here heilig is, gaan Hy hulle hiervoor oordeel (Op. 20:12, ‘klein en groot’).  Maar as hulle jammer is oor hulle sonde, dit haat, en in geloof na die Here toe draai, sal Hy hulle red, vergewe en as sy kinders aanneem.

 

[5] Bid saam met jou kinders.  Hou dit kort as hulle klein is.  Jy kan bv. vir ‘n eenjarige sê om agter jou aan te bid:  ‘Sê:  Dankie… Jesus… Amen.’  Jou kinders sal ook uit jóú gebede leer.  Bid daarom met eerbied en respek, sodat hulle kan leer dat die Here groot en heilig is.  Wees vars in jou gebede; moenie elke dag dieselfde ding bid nie (bv. rympies).  Om vars te bly, moet jy self ‘n gebedslewe hê.

 

Waarvoor moet jy bid?  Bid heel eerste vir mekaar en vir die redding van jou kinders se siele.  Moenie die impak van jou gebede onderskat nie.  As jy gereeld en getrou vir jou kinders bid, sal jy ‘n invloed in hulle lewens hê.  Bid ook vir die leraar en die ouderlinge, bekerings, mense in die kerk, sendelinge en siek mense.  Leer hulle om nie vaag te bid nie, maar spesifiek.  ‘Here, help asb. vir Arrie om werk te kry…’ is beter as:  ‘Here, help asb. al die mense in die hospitale en langs die strate…’

 

Gee vir elkeen ‘n beurt om te bid.  Moenie jou kinders se gees demp as hulle gebede onvolmaak is nie.  Jy self bid nie perfek nie.  Wanneer jy jou kinders help om Bybels te bid, moet jy dit in ‘n gees van sagmoedigheid en liefde doen.

 

Bid spesiaal voor die nagmaal.  Gee vir elkeen ‘n kans om sy of haar sonde te bely.  Dalk wil jy nie jou sonde voor jou kinders bely nie, maar eintlik sal dit hulle help om gereeld te hoor dat jy, soos hulle, ‘n sondaar is, en dat jy ook die Here se genade nodig het.

 

[6] Bring jou kinders na die eredienste en Bybelstudies toe (Jos. 8:34-35, Hand. 10:24-33).  Wees opgewonde oor Sondae.  Sê vir hulle:  ‘Dis die Here se Dag!  Ons gaan God se kinders sien, Hom prys en sy Woord hoor!’  Praat na die erediens oor God se Woord en die mense.  ‘Dit was lekker om weer vir tannie Hannie te sien; sy was lank in die hospitaal.’  As jou kinders ouer is, kan jy die preek bespreek.  Moenie van individue, die kerk of die leraar skinder nie.  Jy sal jou kinders negatief maak teen die Here, sy Woord en sy liggaam.

 

[7] Leer jou kinders op ‘n informele vlak.  Met kleintjies werk gelykenisse goed:  ‘God sorg vir die mossies en nog meer vir sy kinders; mense is belangriker as voëltjies.’  Met ouer kinders kan jy in die kar praat oor wat by die skool gebeur het (Deut. 6:7).  Gee vir hulle Bybelse antwoorde oor boelies, kinders wat gespot word, rassisme, kinders wat vloek, rook, drank, seks, watse rol uiterlike voorkoms speel, respek vir onderwysers, huiswerk, evolusie in die handboek, ‘n goeie sportmangees, karakter, ens.  Werk hard om vir hulle ‘n Bybelse wêreldbeskouing te gee.

 

As jy by ‘n advertensie bord verby ry, kan jy hulle leer wat God van uiterlike voorkoms en rykdom dink.  Leer hulle oor ware liefde as hulle in Frozen of Tangled sien hoe ‘n man en vrou mekaar ontmoet, en binne 24 uur verloof raak.  Sê vir hulle dat egskeiding, homoseksualiteit, saambly en aborsie nie God se goedkeuring wegdra nie.

 

[8] Dissiplineer jou kinders (Spr. 22:15, 29:15, Ef. 6:4).  So leer jy hulle die Bybel en help jy hulle om te verstaan dat sonde pynlike gevolge het (Gal. 6:7, Heb. 12:10-11).  Moet hulle nie oordissiplineer nie.  Jy kan nie ‘n kind op medisyne grootmaak nie.  Moet hulle ook nie onderdissiplineer nie.  As jy nalaat om hulle pak te gee, beskadig jy hulle siele en pluk jy vir jouself ‘n lat (Spr. 23:13-14, 17:25, 29:15, 17).  ‘God many times whips an aged parent by that child that was unwhipped at first.’[2]

 

Dalk vrees jy dat al hierdie ‘toewyding’ jou kinders opstandig sal maak en vir hulle ‘n weersin in God, die Bybel en die kerk sal gee.  Dit sal nie.  Hulle sal net opstandig raak as jy skynheilig is, as jy nie dieselfde persoon by die kerk is as by die huis nie.  Hulle sal opstandig raak as jy altyd by die kerk moet wees, maar te besig is om húlle aktiwiteite by te woon.  Hulle sal die Bybel verag as jy dit net gebruik wanneer hulle verkeerd doen:  ‘Die Bybel sê…!’

 

Wie se plig is dit om jou kinders van die Here te leer?  Dit is nie die skool, Sondagskool, jeugleier, sielkundige, bediende, TV of iemand anders se plig nie.  As hoof van die huis is die pa hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik (v.3, 5, Gen. 18:19, Ef. 6:4, 1Tim. 3:4-5, 12).  As die pa die Here liefhet en vir sy gesin die Bybel leer, gebeur dit gewoonlik dat hulle sy voorbeeld volg (Jos. 24:15, Spr. 22:6, Joh. 4:53, Hand. 1:14, 16:31-34, 18:8, Rom. 16:10-11, 1Kor. 7:14).

 

Saam met die pa is die ma mede-verantwoordelik.  Sy moet ook die kinders leer (Spr. 1:8).  As sy pligsgetrou is, kan sy ‘n groot invloed op haar kinders se lewens, en sodoende op die samelewing hê (Spr. 31:1, 2-9, 1Tim. 2:15).

 

Wat as ‘n kind se pa, ma of beide nie die Here dien nie?  In sulke gevalle moet gelowige oupas, oumas, ooms en tannies help (Hand. 16:1, 2Tim. 1:5, 3:15).  Praat met hulle oor die Here as jy die geleentheid het.  Stel vir hulle ‘n goeie voorbeeld, skryf briewe, bel hulle, stuur vir hulle ‘n Whatsapp, nooi hulle saam kerk toe, bid vir hulle.  Dit is nie genoeg om te hoop die Here red hulle nie – doen iets.

 

Die kerk moet ook betrokke raak by die kinders van wie een of beide ouers nie die Here ken nie.  Omdat Timoteus se pa nie ‘n gelowige was nie, het Paulus hom as sy seun in die geloof aangeneem (Hand. 16:1, 1Tim. 1:2, 2Tim. 1:2).  Hy het dieselfde met Titus gedoen (Tit. 1:4).  Wyle dr. Martin Holdt het dit met sy bure se dogters gedoen.  Onder sy invloed het hulle tot bekering gekom.  Is daar ‘n kind wat jý vir die Here kan beïnvloed?

 

Hoekom moet jy jou kinders leer? (v.6-8)

Sammy leer haar kinders, sodat hulle goeie maniere kan hê en mense haar geluk kan wens.  Oliver leer sy kinders, sodat hulle reg sal doen en hom nie in die verleentheid stel nie.  Cornelia leer haar kinders, sodat hulle top atlete, studente en leiers kan wees.  Kenny leer sy kinders, sodat hulle ‘n goeie karakter kan ontwikkel en suksesvol kan wees in die toekoms.  Sonja leer haar kinders, sodat hulle goeie vriendskappe kan bou en eendag gelukkig getroud kan wees.

 

Maar nie een van hierdie redes is goed genoeg nie.  Hoekom móét jy jou kinders leer?  In v.6-8 gee Asaf vir ons die rede:  leer jou kinders, sodat hulle God en sy Woord kan ken en vir húlle kinders kan leer.  As jy dit goed doen, is dit nie net jou kinders wat die Here sal dien nie, maar die geslagte wat kom.

 

‘n Man in ons gemeente het my vertel dat sy vrou se oupa die Here getrou gedien het.  Op sy begrafnis het hulle besef hoe baie van sy kinders en kleinkinders deur sý voorbeeld tot bekering gekom het.  Moenie bang wees dat jou kinders die evangelie sal verwerp nie.  Bid vir hulle, leer die Bybel vir hulle, stel ‘n goeie voorbeeld en los die res vir die Here.

 

As jy nalaat om dit te doen benadeel jy nie net jou kinders nie, maar die geslagte wat kom (v.6-8).  As jý nie hulle gedagtes met die waarheid vul nie, sal die wêreld en haar vals godsdienste dit vul.  Jou kinders sal op hulleself en die wêreld hoop, en nie op die Here nie (v.7).  Hulle sal sy groot werke vergeet en sy Woord ignoreer (v.7).  Hulle sal rebels, hardkoppig en ontrou wees (v.8, Rigt. 2:10-12).

 

Asaf sê vir ons hoekom baie kinders die kerk verlaat wanneer hulle universiteit toe gaan.  Hulle het hulle ouers se lewens dopgehou en gesien dat hulle skynheilige kerkmense is (v.8).  Op ‘n Sondag sing hulle Psalms, maar op ‘n Maandag vloek hulle hulle werkers, veg hulle soos honde in die huis, drink hulle te veel en kyk hulle vuil programme op TV.  In hulle harte het hierdie kinders al die kerk verlaat toe hulle in die laerskool was; dit het eers sigbaar geword toe hulle 18 is.

 

Wil jy hê jou kinders moet hulle hoop in die Here stel, in Hom glo, Hom dien, op Hom vertrou, Hom prys, standvastig en gehoorsaam wees, getrou wees in hulle harte (v.5-8)?  Sorg dan dat jy dit eerste doen en vir hulle die Bybel leer.  Bekeer jou, glo in Jesus Christus en bid dat hulle dieselfde sal doen.  So sal die slegte voorbeeld van party van ons Afrikaanse voorvaders nie na hulle toe deursyfer nie (v.8, 1Pet. 1:18).

 

Moet asb. nie jou kinders aan die duiwel, die wêreld of hulleself oorlaat nie; help hulle.  Wees soos John Paton se pa.  In sy hele lewe het hy nie eenkeer nagelaat om oggend en aand huisgodsdiens te hou nie.  Volgens Paton het nie een van die elf kinders opstandig geraak hieroor nie.  Inteendeel, dit het hulle lewens verander.[3]  Jare later het ‘n hele eiland onder Paton se prediking tot bekering gekom.  Waar het dit begin?  Om ‘n kombuistafel met ‘n oop Bybel.

 

[1] Jeff Pollard & Scott T. Brown: red., A Theology of the Family, p. 138

[2] Ibid., p.139

[3] John Paton: Missionary to the New Hebrides, pp.14-17

Die hemel se volkslied

Hallelujah-Chorus

Die wêreld weet nie wat halleluja beteken nie.  Jare gelede was daar ‘n populêre lied wat gesê het:  ‘It’s raining men, hallelujah!’  In sommige kerke dink mense nie mooi voordat hulle ‘halleluja’ of ‘amen’ sê nie.  Ek het ‘n diens bygewoon waarin mense ‘amen!’ geroep het toe die spreker sê:  ‘Ons staan agter op ‘n trok in Rusland…’

 

Wanneer ek dan in hierdie preek die woord ‘halleluja’ gebruik, bedoel ek dit nie as ‘n cliché nie, maar gebruik ek dit soos wat Johannes dit in Op.19:1-10 gebruik het.

 

Die eerste halleluja (v.1-2)

Omdat die woord ‘halleluja’ so algemeen in ons musiek voorkom, dink ons nie altyd mooi wat ons sê wanneer ons dit sing nie.  Dit was nie die geval in Op.19 nie.

 

Johannes het iets gehoor wat geklink het soos die stem van ‘n baie groot menigte in die hemel (v.1, 5:11-14, 7:9, 11:15).  ‘Halleluja!’ het hulle uitgeroep (v.1).  Ek het vroeër in die reeks gesê dat ‘halleluja’ slegs hier in die Nuwe Testament voorkom, en dat dit letterlik ‘prys Jah(we)’ beteken.

 

Waarvoor het hulle die Here geprys?

 

[1] Die mens se verlossing kom geheel en al van die Here af (v.1, Rm.8:29-30, 11:36, Ef.2:8-9).  Die Here het ook sy bruid van die prostituut se onderdrukking verlos (18:20).

 

[2] Omdat verlossing van die Here af kom, het hulle gesê dat die heerlikheid aan Hom behoort en aan niemand anders nie:  Soli Deo Gloria (v.1, Jes.48:11).

 

[3] Hulle het Hom ook geprys dat Hy die mag gehad het om te skep, te onderhou, die geskiedenis te beheer, te verlos en te oordeel (v.1).

 

Die rede hoekom hulle Hom so geprys het, is omdat Hy waaragtig en regverdig was toe Hy die groot prostituut genaamd Babilon – dit is, Jerusalem – geoordeel het (v.2, hfst.17-18).[1]  Dit was immers a.g.v. háár geestelike egbreuk dat die land [Gk. ] in ‘n moeras van immoraliteit verval het (v.2).

 

Verder was dit ook sý wat die bloed van die Here se diensknegte vergiet het, en daarom het Hy wraak geneem en haar geoordeel (v.2, 18:20, 24, 16:6, Dt.32:35, 41, 43, Lk.11:47-51, vgl. 2 Kon.9:7).

 

Die tweede halleluja (v.3)

Robert Murray McCheyne was ‘n Skotse prediker in die 1800’s.  Op 9 Nov. 1834 het hy gehoor dat iemand wat baie verkeerde lering versprei het, gesterf het.  Hy was bly oor die nuus.[2]  Toe ek dit gelees het was ek aanvanklik geskok.  Maar as ek dit met Op.19 vergelyk, besef ek dat hy reg was.

 

Die groot menigte van v.1 het weer ‘halleluja!’ geroep (v.3).  Jerusalem was soos Sodom, en daarom het haar rook soos Sodom s’n in die lug opgestyg (v.3, 11:8, 17:16, 18:8).  Die rook was ‘n voorsmakie van die ewige straf wat sy in die hel sou beleef het (v.3, 14:10-11, Jes.34:8-10, 2 Pt.2:6, Jud.7).

 

Hoe moet ons hierdie eerste drie verse toepas?  Soos die gelowiges in hierdie verse, sal jy ook die Here vir jou verlossing prys wanneer jy in die hemel is.  Jy sal geen krediet vir jouself neem, asof die bepalende besluit vir jou redding by jóú en jou vrye wil gelê het nie.  Jy sal verstaan dat Hý die Outeur en Voleinder van jou geloof is, dat Hý die goeie werk in jou begin en volbring het, en dat Hy jou gered het tot die lof van sý heerlikheid (Heb.12:2, Fil.1:6, Ef.1:6, 12, 14).

 

Jy sal Hom ook prys vir sy regverdige oordele oor OGOD en hulle ateïstiese ondersteuners, ISIS en ander Moslem-groepe, die Kommuniste, en die res van die kerk se vyande (v.2, Ps.58:11).  Jy sal bly wees dat jy nie self wraak geneem het nie, maar dat jy dit vir die regverdige God gelos het.  Jou lofprysing sal nie sadisties wees, sodat jy lekker kry oor jou vyande wat in die hel is nie.

 

Maar jy sal ook nie hartseer wees nie.  God se heilige grootheid, geregtigheid en almag sal so oorweldigend wees, dat dit alles oorskadu.  Jy sal sê dat dit goed en reg is dat Hy die kerk se vyande in die hel gewerp het.

 

Jy sal ook opnuut dankbaar wees dat Hy jou gered het, en dat jy nie saam met die goddelose in die hel is nie.  Jy sal besef dat jy die hel verdien het, en dat dit sy vrye genade is wat die verskil gemaak het.  Jy sal nie anders kan as om Hom vir ewig te prys in alles wat jy doen nie.

 

Die derde halleluja (v.4-5)

Ek het by twee geleenthede iemand in die hof gaan ondersteun.  By beide geleenthede het ‘n polisieman my aangespreek:  een keer omdat ek ‘n hoed op my kop gehad het, en die ander keer omdat ek teen die muur gestaan het.  En as die hof so ernstig was dat ek respek moes wys, hoeveel te meer is dit nie die geval in die hemel nie?

 

Die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens het voor die troon geval en die Here aanbid wat daarop gesit het.  Ek het in hfst.4 gewys dat die 24 ouderlinge ‘n rangorde van engele is, en dat die 4 lewende wesens gerubs is.[3]

 

Hulle het op hulle gesigte voor die troon geval en die Here aanbid (v.4).  Hulle ‘amen’ het die groot menigte van v.1-3 se ‘halleluja’ ge-eggo (v.4).  Dit is asof hulle gesê het:  ‘Dit ís so; ons stem saam dat die Here geprys moet word.’

 

Daar het ‘n stem van die troon af gekom:  “Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!” (v.5).  Die stem wat van die troon af gekom het was Jesus s’n.  In sy menslike natuur was die Vader ook sý God, en het Hy Hom geprys (Ps.115:1, Jh.20:17, Ef.1:3, 17, Heb.2:12).  Hy het vir God se knegte, vir die wat Hom vrees, gesê om Hom te prys (v.5, 1-10).  Dit het vir almal gegeld, klein en groot (v.5, 11:18).  Dit is tog hoekom Hy hulle gemaak het (Ps.148:2, 11-14, Jes.43:7, 21).

 

En as jy hiervoor geskep is sal jou siel nie rus, totdat jy dit doen nie.  Ek bedoel nie net dat jy ‘Jesus-liedjies’ moet sing nie, maar dat jy deur tydsame gebed en bepeinsing in ‘n verhouding met die Here moet leef.  As jy dit gereeld doen sal jy op een of ander stadium ‘n diep ervaring met die Here hê, sodat jy nie anders kan as om Hom te prys nie.

 

Eers dán sal jy besef dat ware lofprysing die hoogste piek is wat jy ooit in hierdie wêreld en in die volgende een sal bereik.  Ewe skielik sal die plesiere van hierdie wêreld vir jou leeg en hol wees.  Jy sal agterkom dat drank, vriende, jou huweliksmaat en kinders, seks, rykdom, nuwe goed, ‘n ander werk, lekker kos, populariteit en aansien, akademiese grade, jou net tydelik gelukkig kan maak.  Om ware vervulling, satisfaksie en versadiging te hê, moet jy die Here prys.  Dit kan nie anders nie, omdat Hy jou hiervoor gemaak het.

 

Die vierde halleluja (v.6-9)

Wanneer iemand in Johannes se tyd verloof geraak het, moes hy ‘n bruidsprys aan die bruid se pa betaal het.  Verlowing was meer bindend as wat dit vandag is; dit moes met ‘n amptelike skeibrief verbreek word (Mt.1:18-25).

 

As die man klaar verloof geraak het, het hy vir ‘n kort tydjie weggegaan om alles gereed te kry vir die troudag.  As dit gereed was, het hy sy bruid kom haal en haar na sy huis toe gevat.

 

Hulle het vir sewe dae fees gevier, en aan die einde daarvan beloftes uitgeruil.  Daarna het hy haar in sy huis ingebring.[4]  Dit sal help om hierdie agtergrond in gedagte te hou wanneer jy v.6-8 bestudeer.

 

Johannes het weer ‘n stem gehoor wat soos ‘n groot menigte klink, soos die gedreun van baie waters en soos die geluid van harde donderslae (v.6, 14:2).  Hulle het die Here met ‘n ‘halleluja’ geprys, omdat Hy as die Almagtige God regeer het (v.6).  Sy aardse Koninkryk het begin toe Jesus na die hemel toe opgevaar het en dit in sy Naam geregistreer is; dit sal oor die wêreld versprei en by die wederkoms vervul word (hfst.5, 11:15, 17, Ps.2:6-8, 110:1, Dn.2:35, 7:13-14, Mt.4:17, 6:10, 12:28, 28:18, Lk.10:9, 17:21).

 

Net so het Jesus se huwelik by sy eerste koms begin, en sal dit by die wederkoms vervul word (v.7, Mt.9:15).  Kom ek verduidelik dit so:

 

Omdat Israel aanhoudend in die Ou Testament egbreuk gepleeg het, het die Here haar met ‘n skeibrief weggestuur (Jer.3:1-8, Mt.19:9).  Hy het haar egter vergewe en teruggevat (Hosea).  Maar in 16:21 en 17:16 het Hy genoeg gehad, sodat Hy die prostituut gestenig en verbrand het (Dt.22:22, Lv.21:9).

 

Dit het in 70 n.C. gebeur toe Hy die tempel met sy priesters en offers verwoes het, en so die ou verbond met Israel finaal tot ‘n einde gebring het (Heb.8:13, 10:9).  Maar dit is nie asof sy huwelik misluk het nie.  God se ware bruid was nog altyd dié wat in Christus geglo het, en nie dié wat as Jode gebore is en besny is nie (Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 16, 29).

 

God het in 21:2, 9, Jes.54:5, 62:5 gesê dat die hemelse Jerusalem (die kerk volgens Gal.4:26) sy bruid is.  Deur sy dood het Hy die bruidsprys betaal, en toe sy in Hom geglo het, het Hy aan haar verloof geraak (Ef.5:22-33, 2 Kor.11:2).

 

Hy het opgevaar hemel toe om alles gereed te kry vir die troudag.  Sy het ook moeite gedoen om haarself gereed te kry, deurdat sy die blink wit trourok van haar heilige en gehoorsame dade aangetrek het (v.7-8, 3:4-5, 14:4, 1 Jh.3:3).  Deur sy kruisdood het Jesus hierdie fyn linne trourok vir haar gekoop (v.8, 7:14, Gn.3:21, Ps.132:9, Sp.31:22, Jes.61:10).

 

Die punt is dat die Here sy bruid instaatgestel het om goeie werke te doen, maar dat dit sý is wat dit moes doen (v.7-8, Ef.2:10).  God se bruid moes haarself vir die hemel voorberei, maar die Here sou gegee het wat nodig was om dit te doen (Fil.2:12-13).

 

Dit beteken nie dat sy vir die hemel moes wag om fees te vier nie.  Volgens die Bybel bestaan die fees ten minste uit drie disse, en is dit so te sê ‘n driegang maaltyd.

 

  • Wanneer iemand tot bekering kom, geniet sy in die Woord, die gemeenskap van gelowiges, die nagmaal en gebed ‘n ete met die Here (3:20, Lk.10:39, 42, Hd.2:42, 1 Kor.5:8).
  • Wanneer ‘n Christen doodgaan, gaan sy dadelik hemel toe. Daar het sy ‘n voller ervaring van die feesmaal saam met Jesus (v.7, Mt.26:29, Jh.14:2-3, Fil.1:23).
  • Wanneer Jesus weer kom, sal sy vir ewig die finale dis van die feesmaal saam met Hom geniet (Jes.25:6).

 

Is dit enige wonder dat die bruid in v.7 bly was en die Here verheerlik het?  Is die bruid se blydskap joune?  Is jy reg om by die feesmaal aan te sit?  Is die klere van jou lewe rein?  Het jy dit wit gemaak in die bleikmiddel Jesus Christus se bloed, en hou jy dit so deur ‘n heilige lewe van gehoorsaamheid?

 

Jy kan ander mense flous, omdat jy elke Sondag in die kerk sit en godsdienstige dinge doen.  Maar jy kan nie die Koning flous nie – Hy sien dwarsdeur jou.  Hy weet of jy in die kerk, huis, huwelik, skool, werkplek, en vriendekring die wit klere van ‘n rein hart en ‘n heilige lewe aan het of nie (Mt.22:11-12).  As jy dit nie aan het nie, sal jy uit die kerkbanke uit hel toe gaan (Mt.22:13).

 

Sorg daarom dat jy voortdurend die wit klere van ‘n heilige lewe aan het.  Moet egter nie dink dat jy dit self so wit gekry het nie.  Jy weet goed dat Jesus hierdie wit klere vir jou gegee het.  As jy dit nog nie het nie, moet jy vir Hom vra om jou uit die modderpoel van jou sonde te red, jou in die fontein van sy bloed te was, en vir jou die wit klere van sy geregtigheid aan te trek.

 

Só kan jy weet dat Hy jou na die troue toe genooi het, en is jy baie geseënd (v.8-9).  Soos wat jy jóú huweliksmaat en gaste gekies het, het die Here sýne gekies.  Beskou dit dan as ‘n voorreg en nie as ‘n reg nie dat Hy jou gekies het om deel van sy bruid te wees, en dat Hy jou na die troue toe genooi het (v.9, Mt.22:14, Hd.13:48).[5]

 

Dank ook die Here dat hierdie nie maar net ‘n feëverhaal is soos Sneeuwitjie of Aspoestertjie nie.  Alles wat die engel vir Johannes gesê het is God se ware woorde (v.9).

 

Die laaste halleluja (v.10)

Omtrent 15 jaar gelede het ‘n vriend van my tot bekering gekom.  Hy het vir my gesê dat ek sy lewe gered het.  Ek het mooi aan hom verduidelik dat dit die Here was en nie ek nie.

 

Iets soortgelyk het in v.10 gebeur.  Johannes was so verwonderd dat hy probeer het om die engel te aanbid.  Hy het as’t ware voor die engel se voete geval en ‘halleluja’ gesê.

 

Die engel het hom dadelik gekeer en gesê dat hy God se slaaf is net soos Johannes en die profete wat van Jesus getuig het (v.10, 5, 22:8-9, Hd.10:25-26).  As Jesus dan die middelpunt van hulle boodskap was, moes Johannes Hóm aanbid het en nie die engel nie (v.10, Lk.24:25-27, 44-45, Jh.5:46).

 

Ons moet God alleen dien:  ons mag nie tot engele bid of hulle aanbid nie, hetsy gevalle engele of heilige engele (v.10, 22:8-9, Eks.20:3, Mt.4:9-10, Kol.2:18).  Ons mag ook nie ‘n ds. vir sy preke of bediening prys, asof hy die Here is wat hierdie dinge doen nie.  Verder mag geen ds. of lidmaat mense versoek om hulle te prys nie, maar moet Jesus die middelpunt van hulle boodskap en lewe wees (v.10).

 

Ten slotte moet ek sê dat enige siening oor Openbaring wat op die fyn besonderhede van die eindtyd fokus en nie op Jesus nie, glad nie oorweeg moet word nie.  ‘n Siening wat jou bang maak en jou nie dryf om ‘halleluja!’ te sê nie, eggo nie die hemel se volkslied nie en mis die punt.

 

[1] Sien my preek, Die Lam, die Prostituut en die Antichris vir ‘n bewys dat die prostituut of Babilon ‘n skuilnaam vir Jerusalem is.

[2] Iain Murray, The Puritan Hope, p.194

[3] Sien my preek, ‘n Visioen van die hemel.  Daarin het ek gewys dat die lewende wesens ooreenstem met die gerubs in Esg.1, 10.  Ek het ook gewys dat die 24 ouderlinge op trone gesit het, en dat Paulus in Kol.1:16 van sommige hemelwesens as ‘trone’ praat.  Volgens party is die 24 ouderlinge ‘n voorstelling van al die gelowiges in die Ou- en Nuwe Testamente, en is die 4 lewende wesens simbolies van die hele skepping.  Ek huldig nie hierdie siening nie, omdat Johannes in Op.7:9, 11 tussen die 24 ouderlinge en die gelowiges in die hemel onderskei.

[4] William Hendriksen, More than Conquerors, p.215

[5] Ek dink nie Johannes probeer om tussen die bruid en die genooide gaste te onderskei nie.  Christene is die bruid en die gaste wat na die troue toe genooi is, net soos wat Jesus in 7:17 die Lam en die Herder is.

Bome sonder vrugte

Die verskil tussen ware en valse gelowiges

Barren fruit tree

In my erf het ek ‘n pruimboom wat nie vrugte dra nie.  Die helfte van die boom is so droog soos die Kalahari.  My vrou het al meer as eenkeer gesê dat ons die boom moet uithaal.

 

In Mk.11:13 en Lk.13:6-9 het Jesus gesê dat Israel ‘n vyeboom is wat nie vrugte dra nie.  Hy het dit vervloek en gesê Hy gaan dit uitkap.  Jud.12 praat van die vals leraars as vrugtelose bome.

 

In Jes.5 beskryf die profeet vir Israel as ‘n wingerd, en sê hy dat sy suur druiwe voortgebring het.  Dit sal help as ons uit haar voorbeeld leer, sodat ons nie in dieselfde strik trap as sy nie.

 

God se wingerd (v.1-7)

Wanneer Carina se plante vrek, sê sy maklik dat sy nie groen vingers het nie.  Die waarheid is egter dat sy nie genoeg tyd, aandag en water vir haar plante gee nie.  Maar met die Here is dit nie so nie.  Jy sal binnekort sien wat ek bedoel.

 

Jesaja het ‘n liefdeslied vir sy Beminde gesing (v.1).  Sy Beminde het ‘n wingerd uit Egipte gaan haal en dit op ‘n vrugbare heuwel in Kanaän geplant (v.1, Ps.80:9).  Hy het die grond omgespit en klippe uitgehaal om ‘n kwaliteit wingerd te plant (v.2, Jer.2:21).  Om dit op te pas en goeie wyn te maak, het Hy ‘n wagtoring gebou en ‘n parskuip uitgekap (v.2).

 

Maar toe die seisoen aanbreek, het Israel suur druiwe voortgebring en nie die soet en sappige vrugte van bekering nie (v.2, Mk.12:1-9).  Waar het dinge fout gegaan:  wie was verkeerd tussen die Boer en sy wingerd, tussen die Here en Israel (v.3)?  Die Here het alles gedoen dat die wingerd kon groei – hoekom het dit dan suur druiwe voortgebring?  Duidelik was die probleem by die wingerd en nie by Hom nie.

 

Wat sou Hy met die wingerd gedoen het?  Hy sou die doringheining [Heb. meśûkâh, Sp.15:19] en die klipmuur wat die wilde diere en skelms moes uithou, verwyder het (v.5, Sp.24:31).  Almal sou ingekom het om dit af te wei en te vertrap (v.5, 3:14, Eks.22:5, Ps.80:13-14, Jer.5:10).

 

Die Here sou nie meer die wingerd gesnoei het of omgespit het nie, maar dit in ‘n woestyn verander het (v.6).  Soos in Gn.3:18 sou Hy dit vervloek het, sodat dit met dorings en distels oortrek was (v.6, 7:23-25).  Hy sou ook vir die wolke gesê het om nie meer daarop te reën nie (v.6, Dt.28:23-24, 1 Kon.17:1).

 

Israel en Juda is die wingerd wat suur druiwe voortgebring het; die Here van die Leërskare is die Beminde van wie Jesaja in v.1 gepraat het (v.7).  In die verlede was die wingerd vir Hom ‘n plesier, maar nou het dinge verander.  Israel het nie die soet druiwe van reg en geregtigheid voortgebring nie, maar die suur druiwe van bloedvergieting en geskreeu (v.7).

 

In die Hebreeus klink die woordspeling só:  ‘Hy het mishpâ [reg] gesoek maar miśpâch [bloedvergieting] gekry; tsa‛ăqâh [geskreeu] in stede van tsedâqâh [geregtigheid].’

 

God se wee (v.8-30)

Het jy al ooit gedink dat die hel ‘n oorreaksie van God se kant af is, en gewonder hoekom Hy besluit het om ongelowiges so swaar te straf?  Ek het al, wat net wys dat ek nie die erns van sonde verstaan het nie.

 

‘n Paar jaar gelede het ek iets daarvan verstaan toe die Here my ‘n diep oortuiging van my eie sonde gegee het, en toe ek by Ellis Park gesien het hoe goddeloos mense is.  Ek het besef dat die probleem nie by God se verstaan van liefde lê nie, maar by ons verstaan van heiligheid.

 

En wanneer ons God se heiligheid verstaan, maak sy haat en oordeel oor die sonde in v.8-30 perfek sin.  Dié verse is eintlik ‘n kommentaar op v.1-7 waarin Jesaja die betekenis van suur druiwe en die vernietiging van die wingerd verduidelik.

 

[1] Materialisme

Die Here het sy wee uitgespreek teen dié wat Lv.25:23-31 oortree het, en prokureurs gehuur het om die armes se familieplase by hulle weg te vat (v.8, 3:14-15, 1 Kon.21, Mg.2:2, 9, Am.2:6-7).  Soos in die bordspeletjie Monopoly, wou hulle alles vir hulleself gehad het, en het hulle as’t ware die armes van die grond afgedruk.

 

As gevolg daarvan het die Here van die Leërskare vir Jesaja gesê dat Hy die rykes uit hulle groot en luukse huise uit sou verwyder (v.9, Am.3:15).  Hy sou die wingerde en koringlande wat hulle by die armes gesteel het, onvrugbaar gemaak het:  ‘n wingerd van vier hektaar (vier rugby velde), sou slegs 22 liter wyn opgelewer het, en ‘n 220 liter drom vol saad sou ‘n skrale 22 liter koring opgelewer het.  Die gulsige rykes sou teen ‘n hengse verlies geboer het (Lv.26:26, Hg.1:6, 2:16).

 

[2] Hedonisme[1]

God het sy wee uitgespreek teen dié wat van vroeg tot laat sterk drank en wyn gedrink het (v.11).  Volgens een kommentator het drank hulle soggens laat opstaan, en saans uit die bed uit gehou.[2]  Hulle het vir partytjies gelewe; hoe dronker hulle was, hoe lekkerder het hulle gesing (v.12, Am.6:5-6).  Hulle het nie daaraan gedink om die Here vir sy groot werke te prys nie; die musiek was vir hulle eie vermaak (v.12).

 

Hoekom sou hulle buitendien die Here geëer en gehoorsaam het as hulle Hom nie geken het nie (v.13, Hos.4:6)?  A.g.v. hulle onkunde en sonde, sou die Here hulle na ‘n vreemde land toe gevat het (v.13).  Hulle sou nie meer luukse partytjies gehou het waar daar volop kos en wyn was nie, maar hulle sou honger en dors gewees het (v.11-13).

 

Die doderyk sou egter sy mond oopgemaak het en homself trommeldik geëet het (v.14).  Die rykes se dood was die begraafplaas se brood.  So het God hulle hoogmoedige oë afgebring en hulle verneder (v.15, 2:9, 11-12).  Hy het hulle leë en bouvallige huise die weiplek van lammers en trekbokke gemaak (v.17).  So het God die rykes se neuse in die grond gevee; Hy het Homself en sy heilige geregtigheid verhef (v.16).

 

[3] Spottery

Die volk het hulle boosheid met die wa-toue van goddeloosheid nadergesleep en dit met hulle saamgedra (v.18).  Soos in ‘n net het hulle verstrik geraak, sodat hulle nie kon vrykom nie (v.18, Sp.5:22).  Die sonde het hulle verblind en verhard, sodat hulle gesê het:  ‘Na baie jare van sonde het die Here nog nie iets aan ons gedoen nie.  As Hy regtig ‘n probleem met ons het, wil ons Hom uitdaag om ons te oordeel sodat ons kan weet dat Hy bestaan!’ (v.19, vgl. 2 Pt.3:4).

 

[4] Amoraliteit

Dit verwys na mernse wat nie morele waardes het nie.  Uiteindelik raak dit so erg, dat hulle sê goed is sleg en sleg is goed (v.20).  Hulle dink onderstebo (Rm.1:28).  Volgens húlle is morele waardes ‘n kwessie van smaak:  ‘Dit wat vir jou bitter en donker is, is vir my soet en lig’ (v.20).  Maar die mense wat só lewe sal geoordeel word (v.20).

 

[5] Verwaandheid

Daar was ook wee vir dié wat eiewys was en nie bereid was om vir die Here te luister nie (v.21, 24, Sp.3:7, 12:15, 16:18, 26:12, 16, 28:11, Rm.12:16).

 

[6] Onreg

Wee het gewag op dié wat dapper helde was wanneer dit by wyn en sterk drank kom (v.22, 11).  Hulle het mekaar ‘gedare’ om te kyk wie die sterkste drank kan drink.  So het hulle gewys dat hulle ‘regte manne’ is.  Maar in hulle besope toestand het hulle die gereg verdraai (v.23).  Vir ‘n groot som drankgeld het hulle die skuldige persoon vrygelaat, en die onskuldige van sy regte ontneem (v.23, Eks.23:8, Sp.17:15).

 

[7] Dood

Omdat hulle die Heilige God se Woord en wet verag het, sou die vlamme van sy oordeel hulle soos droë gras en stoppels verteer het (v.24).  Hy sou die wingerd tot aan sy wortels vernietig het, sodat die bloeisels nie vrugte voortgebring het nie (v.24).

 

God se woede sou soos ‘n vuurhoutjie by petrol teen hulle ontvlam het; dit sou hulle soos ‘n aardbewing geskud het (v.25, Jer.4:24, Nah.1:5).  Hy sou hulle met ‘n regter vuishou geslaan het (v.25).  Die oortreders se lyke sou soos rommel in die strate gelê het, en selfs ná dit sou Hy nie die uitgestrekte arm van sy toorn teruggetrek het nie (v.25, 9:12, 17, 21, 10:4).

 

In sy soewereiniteit oor die nasies sou Hy sy banier vir hulle gewaai het en gefluit het, sodat hulle van die eindes van die aarde af teen God se uitverkore volk gekom het (v.26, 7:18, Dt.28:49).  Volgens Jesaja was Israel se vyande:

 

  • So vinnig soos ‘n warrelwind (v.26, 28).
  • Wakker, dodelik en slaggereed (v.27-28).
  • Instaat om sonder rus aan te hou veg (v.28).
  • Aggressief soos sterk jong leeus wat brul en grom as hulle iets gevang het (v.29).
  • Angswekkend soos reuse branders op die see en donker wolke wat die son uitblok (v.30, 8:22). Daar was nie ‘n enkele straal van hoop nie.

 

Watse lesse leer ons uit Jesaja 5?  Moenie soos Israel dink dat jy aan die Here behoort as jy nie die goeie vrug van bekering dra nie.  Dit is tog die vrug van goeie werke wat wys of iemand se geloof eg is, en of hy gered is of nie (Jk.2:14-26).  Jesus het ook gesê dat jy die boom aan sy vrugte sal ken, en dat dié wat sy lering uitvoer en die wil van die Vader doen, waarlik gered is (Mt.7:20-27).

 

Volgens Petrus kan jy weet of God jou gekies en geroep het, as jou geloof die goeie en gesonde vrug van gehoorsaamheid voortbring (2 Pt.1:10, 5-9).  As die Wingerd se lewensap deur jou vloei, kan jy nie anders as om die vrug van ware bekering te dra nie (Jh.15:1-8).

 

Jou eenheid met die Ware Wingerd sal gesien word in die feit dat jy geestelik groei; dit sal gesien word in karaktertrekke soos morele opregtheid, ‘n persoonlike kennis van God, selfbeheersing, volharding, ‘n toegewyde lewe, ‘n toegeneentheid [Eng. ‘affection’] tot ander Christene, liefde vir God en jou naaste, blydskap in die Here en vrede met Hom, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid en sagmoedigheid (2 Pt.1:5-8, Gal.5:22).

 

Iemand wat die suur druiwe van Jes.5 en ander sulke gedeeltes dra, wys dat hy nie gered is nie.  Te veel mense maak hulle uiterlike verbintenis tot die kerk die termometer waarvolgens hulle meet of hulle hemel toe gaan of nie:  die doop, lidmaatskap, tiendes, kerkbywoning, verkiesing tot die amp van ouderling of diaken, ens.

 

Hierdie mense se leefstyle wys egter dat hulle nie die Here ken nie, en dat hulle nie die eerste ding van Christenskap verstaan nie.  Vir hulle gaan die lewe oor geld en plesier, en nie oor die Here nie (v.8-12).  Hulle is slawe van sonde, en hou nie daarvan dat die Bybel vir hulle sê hoe hulle moet lewe nie – hulle wil self besluit (v.18, 20).  Hulle lewe asof daar nie ‘n oordeelsdag gaan wees nie (v.19).

 

Hulle is eiewys, sodat hulle hulle eie koppe volg (v.21).  Hulle aanvaar nie die raad van ander nie, of dit nou hulle ouers, ander gesagsfigure, of mense met meer lewenservaring as hulle is.  Jy sal hulle nie by ‘n sosiale geleentheid sien sonder ‘n glas wyn of sterk drank in hulle hande nie; hulle oë is gedurig rooi van al die drank (v.11, 22).  Hulle gee en vat omkoopgeskenke (v.23).

 

Ons kan seker nog baie ander sondes noem, maar die punt is eenvoudig dat hierdie mense nie vrug dra nie, omdat hulle nie deur geloof aan die Wingerd geheg is nie.  Hulle mag dalk uiterlik met Hom assosieer, maar innerlik vloei sy lewensap nie deur hulle nie (Jh.15:1-8).  Die Heilige Gees woon nie in hulle om die vrug van bekering te produseer nie (Gal.5:16-26).

 

Christus se woorde het nie diep wortels in hulle harte nie, en daarom kan hulle nie vrug dra nie (Jh.15:7).  Die Bybel verveel hulle, en gebed is nie ‘n gereelde deel van hulle lewens nie (Jh.15:7).  Wanneer die Boer hulle snoei, val hulle weg – hulle groei nie geestelik nie (Jh.15:2).

 

Omdat hulle dan vrugtelose ongelowiges is, sal God die takke van hulle lewens afbreek en dit in die vuur gooi (v.24, Jh.15:6).  Moet dan nie soos hulle wees nie, maar bekeer jou.  Vra dat die Heilige Gees deur wedergeboorte die saad van Christus se lewe in jou hart sal plant.  Glo dat Hy aan die kruis die wyn van sy bloed gestort het om jou sonde weg te was.  Spandeer dan die res van jou aardse en hemelse bestaan in soete gemeenskap met die Wingerd.

 

As jy dít doen sal jy nie vrugte dra wat uiterlik mooi lyk, maar van polystyrene gemaak is nie.  Die trosse van jou lewe sal so groot en swaar wees soos Num.13 se druiwe wat die spioene aan ‘n paal vasgemaak het om dit op hulle skouers te dra.  Die goeie vrugte wat jy dra sal die Vader verheerlik (Jh.15:8).

 

[1] Hedonisme verwys na mense wat vir plesier lewe.

[2] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.71

‘n Oop brief aan lou kerke

Lukewarm church

My vriend Jannie Vosloo het in ‘n preek vertel hoe hy en sy broer as kinders ‘n hand vol pille gedrink het. Sy ma het hulle dokter toe gejaag.  Die lou water wat hy vir hulle gegee het, het gemaak dat hulle die pille opbring.  Jesus wil nie hê ons moet geestelik soos lou water wees en Hom naar maak nie.  Uit Op.3:14-22 leer ons dat daar vir Hom min dinge so erg is soos ‘n lou gemeente.

 

Die aanhef (v.14)

Laodisea was 64 km van die weskus van Turkye af, 30 km wes van Kolosse, en 10 km suid van Hierapolis. Omdat hierdie drie stede naby mekaar was, het hulle interaksie gehad.  In Kol.2:1 sê Paulus dat hy hard gestry het vir die gelowiges in Laodisea en Kolosse.  In Kol.4:13 sê hy dat Epafras hard gewerk het vir die gelowiges in Hierapolis en Laodisea.  Volgens Kol.4:16 moes die Kolossense-brief ook aan die gemeente van Laodisea voorgehou word, en andersom.  Die stad is in die middel van die tweede eeu v.C. deur Antiochus II van Sirië gebou.  Hy het dit na sy eerste vrou Laodice vernoem.[1]

 

Jesus het sy brief gerig aan die boodskapper of leraar van die gemeente in Laodisea (v.14). In Jes.65:16 het die Here Homself as ‘die God van waarheid of amen’ [Heb.] beskryf.  En in v.14 van ons teks het Jesus Homself as ‘die Amen’ beskryf.  Jesus is die ‘ja en amen’ op alles wat God belowe het (2 Kor.1:20).  Amen beteken ‘sekerlik, waarlik, laat dit so wees’.  Voordat Jesus ‘n belangrike lering gegee het, het Hy dikwels gesê:  ‘Amen, amen, Ek sê vir julle…’ [Gk.].

 

Net soos God in Jer.42:5, is Jesus die Getroue en Waaragtige Getuie (v.14, vgl. v.7, 1:5, 19:11). Hy kan nie lieg nie, sodat die dinge waarvan Hy in hierdie boek getuig ‘n getroue weergawe is van alles wat sy Vader volgens 1:1 vir Hom gesê het (22:6).  Die Laodisense was ontrou, maar Jesus was getrou.

 

Jesus is die Begin van die skepping (v.14, 22:13). Dit beteken nie dat Hy geskep is nie, maar dat die hele skepping sy begin en ontstaan in Hom het (Jh.1:3, Kol.1:16).  Volgens Paulus in Kol.1:15 is Jesus die eersgeborene van die skepping.  Weereens beteken dit nie dat Hy geskep is nie, maar dat Hy die erfgenaam van alles is (Heb.1:2).  Omdat Hy alles geskep het, behoort dit aan Hom.  As die eersgeborene is Hy ook voortreflik bo die skepping.

 

Die vermaning (v.15-19)

Jesus het geweet dat die Laodisense en hulle werke nie warm of koud is nie, maar lou (v.15-16). Jesus wil nie hê ons moet geestelik lou wees nie.  Hy wil hê dat ons warm of koud moet wees (v.15).  Wat beteken dit?

 

By Hierapolis was daar warm waterbronne wat medisinale waarde gehad het. By Kolosse was daar verfrissende en skoon koue water.  Anders as Hierapolis en Kolosse se bruikbare water, het Laodisea geen natuurlike waterbronne gehad nie.  Die Lycusrivier wat naby die stad was het opgedroog in die somer.  Laodisea se water is met klip pype van Denizli se warm waterbronne af na die stad toe gelei.  Oor ‘n afstand van 8 km het die water stadig afgekoel in die klip pype, sodat dit lou was teen die tyd wat dit Laodisea bereik het.  ‘n Kombinasie van die water se temperatuur en die kalsium inhoud, het gemaak dat dit sleg geproe het.  Die inwoners van Laodisea was gewoond daaraan, maar vir mense wat die stad besoek het was dit iets om van naar te word.

 

Jesus het gesê dat die gemeente nie soos die stad se water moes wees nie: hulle moes nie geestelik lou gewees het nie (v.16).  Hulle moes soos Hierapolis se medisinale warm water, en Kolosse se lewegewende en verfrissende koue water gewees het (v.15).  Omdat hulle geestelik lou was en nie met ywer gebrand het nie (v.15, 19), het hulle Hom naar gemaak sodat Hy hulle wou uitgespoeg (v.16, Gk.).

 

Laodisea was finansieel voorspoedig. In die jaar 60 n.C. is Laodisea byna heeltemal deur ‘n aardbewing verwoes.  Die ryk stadsburgers het in hulle welvaart geroem, en die regering se hulp geweier.  Baie gou het hulle die stad op eie onkoste herbou.  Die gemeente se situasie was ‘n refleksie van wat in die stad gebeur het.  Hulle was finansieel voorspoedig.  Hulle het daarin geroem en gesê dat hulle niks nodig het nie (v.17, Hos.12:8, Sg.11:5, 1 Kor.4:8, kontr. Mt.5:3).  Tog het hulle nie besef dat hulle geestelik in ‘n ellendige toestand was nie (v.17).  Eintlik moes hulle bejammer word soos ‘n brandsiek hondjie in die lokasie (v.17).

 

Die stad was ook bekend vir sy florerende bankwese, mediese skool, Frigiese oogpoeier waarmee hulle ‘n salf gemaak het om bysiendheid te behandel, en fyn swart skaapwol. Maar ten spyte hiervan was hulle geestelik so arm soos ‘n kerkmuis (kontr. 2:9), so blind soos ‘n mol (Jh.9:39-41, 12:40, 2 Kor.4:4, 2 Pt.1:9), en poedelnaak met nie ‘n draad klere om hulle sonde te bedek nie (v.17).

 

As die Raadsman van Jes.9:5, het Jesus vir hulle gesê om goud by Hom te koop wat in die vuur gesuiwer is (v.18). Hierdie ware rykdom kon hulle sonder geld by Hom gekoop het (Jes.55:1).  Hulle moes alles prysgegee het om dit te kry, en ook hulle geld gebruik het om hemelse skatte vir hulleself op te gaar (Mt.13:44-45, Lk.12:33, 1 Tm.6:17-19).  Die Here sou hulle ook deur sy tugtiging soos goud gesuiwer het (v.19, Job 23:10, Ps.66:10, 1 Pt.1:7).

 

Hy sou vir hulle wit klere gegee het om die skande van hulle naaktheid te bedek (v.18, 16:15). Die stad se hoë kwaliteit swart wol sou nie gehelp het nie. Jesus moes hulle met die wit klere van sy geregtigheid en vergifnis bedek het (7:14, 19:8, Gn.3:7, 21, Sg.3:3-5).  Om hulle van hulle geestelike blindheid te genees, moes Hy die salf van sy verlossing aangesmeer het (v.18, Jh.9:1, 6-11, 39-41, 2 Kor.3:14-16, Ef.1:18).

 

In sy groot liefde het Jesus die Laodisense getugtig, sodat hulle nie verder op die verkeerde pad sou loop nie (v.19, Heb.12:5-6). In hulle bekering moes hulle ywerig gewees het.  Hulle moes nie uitgestel het nie, maar dit gou gedoen het (Ps.119:60).  Hulle moes nie gerus het voordat dinge heeltemal reg was nie (2 Kor.7:11).

 

Die belofte (v.20-22)

Vir ‘n hele aantal jare v.C. is Laodisea en ander Asiese stede swaar belas. ‘n Sekere Sulla het hulle bv. gedwing om op een slag vyf jaar se belasting te betaal.  Die inwoners van hierdie stede moes elke dag vir die Romeinse soldate kos, klere en ‘n bedrag geld gee.

 

Toe Cicero daar aangekom het, het hy gesien hoe sy voorvangers die inwoners van Laodisea afgepers het. Hy het hom voorgeneem om nie soos hulle te wees nie.  Hy wou net ‘n dak en vier beddens vir sy soldate gehad het.  In die meeste gevalle het sy soldate in tente gebly.  Hy het nie omkoopgeskenke aanvaar nie, en het sy huis oopgestel vir gaste.[2]

 

Ná Cicero was Hadrian die goewerneur (later het hy keiser Antoninus geword). Hy en sy amptenare het sonder uitnodiging by Polemo se huis ingestap (Polemo en sy gesin was die mees invloedryke mense in Klein-Asië).  Toe Polemo by die huis aankom en die selfgenooide gaste sien, het hy hulle weggejaag.[3]

 

Teen hierdie agtergrond het Jesus in v.20 vir die Laodisense gesê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”  As Hy wou, kon Jesus self die deur oopgemaak het.  Hy wou egter gehad dat hulle met gewillige harte die deur vir Hom moes oopmaak (vgl. Hgl.5:2).

 

Wat beteken dit? Hierdie vers het niks te doen met evangelisasie, asof die ongelowige sy hart vir die Here moet oopmaak nie.  Die deur van v.20 is nie die deur van die sondaar se hart nie, maar die deur van die gemeente.  Jesus se eie gemeente het Hom uitgesluit!  Deur sy streng brief het Jesus aan die gemeente se deur geklop.  Hy het geroep en geklop om te hoor of iemand bereid was om die deur vir Hom oop te maak (v.20, Lk.12:36, Jk.5:9).  Selfs as daar net een was, sou Hy vir die gemeente nog ‘n kans gegee het (v.20, Gn.18:32).

 

Vir iemand om die deur oop te maak, moes hy hom van sy louheid bekeer het (v.19) en vir die Here gevra het om na hom toe te kom (v.20). Hy sou dan die Here se soete gemeenskap, teenwoordigheid, vriendskap, liefde en vrede ervaar het (v.20, Jh.14:23), soos wanneer jy saam met ‘n beroemde persoon aan tafel sit en nie kan glo dat hy by jóú kom eet het nie.

 

In die jaar 40 v.C. het Labienus Partikus Asië binnegedring. Toe hy by Laodisea aankom, het Zeno en sy seun Polemo hom teëgestaan, sodat hy nie by die stad kon inkom nie.  A.g.v. van Pelomo se oorwinning oor Labienus, het hy die troon bestyg.  Antony het hom in 39 v.C. regeerder gemaak oor ‘n deel van Silicië, en in 36 v.C. het hy die koning van Pontus geword.  Verskeie van sy nasate was ook konings.  Hulle het egter nie hulle koningskap deur oorwinning verkry soos Polemo nie.  Hulle het tand en nael geveg om hulle trone teen die res van Laodisea se inwoners en ook hulle eie familie te beskerm.[4]

 

Soos met Polemo, sou die oorwinnaars op die troon gesit het, net soos wat Jesus sý vyande oorwin het en op sy Vader se troon gaan sit het (v.21, Ps.110:1).  Die Laodisense moes hulle geestelike louheid oorwin het.  Anders as met Polemo se nasate, sou Jesus die gelowiges toegelaat het om op sy troon te sit (v.21).  Hulle sou saam met Hom op die aarde regeer het (4:4, 5:10, 20:4, Mt.19:28).  Dié wie se geestelike ore (en oë) oop was, moes geluister het wat die Gees vir die gemeentes sê (v.22, 17-18).

 

Die toepassing

Wees dankbaar wanneer dinge met jou goed gaan, maar wees ook versigtig, omdat ons in sulke tye geneig is om gemaklik en lou te raak, sodat ons gou van die Here af wegdraai (v.17, vgl. Dt.6:10-12, 8:7-18, Sp.30:7-9). En hoe kan jy jou kinders, huweliksmaat, familie, vriende en ander gelowiges geestelik verkwik as jy self nie soos verfrissende koue water, of medisinale warm water is nie?  Iemand wat geestelik lou is kan nie anders as om sy naaste naar en groen in die gesig te maak nie – hy sit mense af eerder as om hulle na die Here toe te trek.

 

Na my mening ly Christene in die westerse samelewing aan hierdie siekte. Ons is geestelik lou en ons werke vir die Here is van ‘n lae en swak gehalte (v.15).  En dit terwyl die Here in Rm.12:11 sê:  “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here”.

 

Hoeveel Christene ken jy wat die Here voluit dien, vir wie Christus en sy Woord alles is? Hierdie is die tipe Christen wat elke moontlike geleentheid gebruik om die Here beter te ken:  eredienste, Bybelstudies, bidure.  Hy is betrokke in die gemeente en gebruik sy geestelike gawe om ander te dien.  Bo alles begeer hy om die Here lief te hê, om heilig te wees, en om Hom te gehoorsaam.  Hy is ywerig vir goeie werke (Tit.2:14).

 

God se Woord is vir hom soos goud en heuning – hy wil altyd meer hê. Hy borrel en loop oor van die Here se lof.  Hy is lief vir ander gelowiges (1 Pt.1:22, 4:8).  Hy deel die Goeie Nuus met ander.  Selfs in sy gewone gesprekke praat hy oor die Here.  Waar hy verkeerd gedoen het is hy ywerig om dinge reg te stel (v.19, 2 Kor.7:11).  Hy is bloedernstig oor geestelike dinge; hy neem dit nie ligtelik op nie, grap nie daaroor nie, en speel nie daarmee nie.

 

Hy is dankbaar. Hy wy homself aan gebed en is vurig daarin (Jk.5:16-17).  Hy is besorgd oor die uitbreiding van God se Koninkryk en dra graag daarvoor by.  Hy kan nie vals lering en sonde verdra nie, maar wil dit soos onkruid uitroei.  Hy is ywerig vir God se eer, sodat hy vreesloos opstaan teen dié wat sy Naam misbruik (Jh.2:17).

 

Sulke Christene is so min soos die tande in ‘n boemelaar se mond. En tog is dít die tipe Christene wat die Here soek:  mense wat met ywer brand, en so verfrissend is soos koue water in die woestyn; mense soos Apollos (Hd.18:25).  Hoekom is alle Christene nie so nie?  Na my mening het die voorspoed in ons land en die gebrek aan vervolging gemaak dat ons die Here nie ernstig opneem nie.  Om in ons land ‘n Christen te wees kos niks, en daarom is ons weergawe van Christenskap nie veel werd nie.  Mense in Suid-Afrika sê te maklik dat hulle Christene is, maar as jy die saak van nader bekyk dan lyk hulle lewens maar net soos die wêreld s’n.

 

Die toenemende goddeloosheid in ons land en wêreld het gemaak dat ons gemaklik geraak het. Ons ywer het verkoel.  Ons is soos die padda in die pot water wat stadig verhit word:  ons kom nie agter dat ons in die moeilikheid is nie.  Jesus het gesê:  “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” (Mt.24:12).

 

Ook die rykdom van ons samelewing het gemaak dat ons die Here nie meer met ywer en blydskap dien nie (Dt.28:47). ‘Wie het die Here nodig as jy geld het?’  Alhoewel ons dit nie direk sê nie, lewe ons asof dit so is.  Ons het genoeg kos vir ‘n maand, en weet dus nie wat dit beteken om vir ons daaglikse brood te bid nie.  Ons gebrekkige gebedslewe en swak toewyding aan die Woord van God en die kerk, wys dat ons vir onsself lewe en nie vir die Here nie.  Alhoewel ons dit nie wil erken nie, het die kerk in Suid-Afrika soos die Laodisense geword.

 

Wat moet ons doen om weer die ywer aan te blaas? Maak seker dat jy egte en vals ywer van mekaar kan onderskei.  Om ywerig te wees vir jou denominasie, kerklike tradisie, reg en geregtigheid, of ‘n politieke saak, is nie dieselfde as om ywerig te wees vir die Here nie.  Dit help dan nie dat jy ywerig is as jy nie presies verstaan waaroor dit gaan nie.  Ywer sonder kennis is nie goed nie (Sp.19:2).  Dit help nie dat jy soos die Jehova’s Getuies of die Jode ‘n opregte ywer het vir ‘n verkeerde saak nie (Rm.10:2, Gal.1:14).  Moet jou dan nie met dinge ophou waarvan die Here eendag vir jou gaan sê:  ‘Wie het gesê jy moet dít doen?’ nie.

 

Pasop ook dat jy nie ywerig van die Here praat, terwyl jou hart soos lou skottelgoed water is nie (Sp.26:23). Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart.  Om die ywer aan te blaas moet jy heel eerste erken dat jy nie ‘okay’ is nie.  Die gemeente of gelowige wat dink dat hy niks nodig het nie, is op ‘n gevaarlike plek (v.17).  Erken eerder dat jy sonder die Here hopeloos en ellendig is, en dat al jou rykdom, kennis en goeie werke niks voor Hom beteken nie (v.17-18).  Deur bekering moet jy die vuil klere van jou geestelike louheid uittrek (v.19).  Vertrou die Here om jou met die wit klere van sý geregtigheid te bedek en jou sonde weg te was deur sy bloed (v.18).

 

Om die liefde en ywer verder aan te blaas, moet jy gereeld deur die Woord, gebed, die nagmaal, en gemeentelike byeenkomste by die tafel aansit en die Here se teenwoordigheid geniet (v.20). Sien ook uit na die hemel waar jy vir ewig by die feesmaal saam met Hom sal aansit.  As jy jou in ‘n situasie bevind waar niemand anders die Here dien nie, kan jy nogsteeds die Here se lieflike teenwoordigheid ervaar (v.20).  Hoor sy roepstem en vra dat Hy na jou toe sal kom (v.20).

 

Indien hierdie preek jou aangespreek het moet jy nie moedeloos raak nie (Heb.12:5), maar dit eerder sien as die Here se hand wat Hy in liefde na jou toe uitstrek (v.19, Heb.12:6).

 

Omtrent ‘n week gelede het ek een aand in die bad geklim om warm te word. Omdat my drie kinders voor my gebad het, was die water lou.  Ek het binne ‘n minuut uitgeklim en my nagklere aangetrek.  Dit was aaklig.  En dit is hoe Jesus oor die gemeente in Laodisea gevoel het.  Hoe voel die Here oor jou?

 

[1] Inligting oor Laodisea het ek uit die volgende bronne verkry: [1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Laodicea.  [2] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Laodicea.  [3] Colin J. Hemer, The Letters to the Seven Churches of Asia in their Local Setting, pp.178-209.

[2] Hemer, Ibid, pp.202-203

[3] Ibid, p.204

[4] Ibid, pp.205-206

‘n Oop brief aan dooie kerke

Dead church

Ek onthou ‘n artikel wat ek tydens my bediening in Nelspruit gelees het: ‘Revival and the Unregenerate Church Member’ deur Jim Eliff.  Die artikel het gepraat van soldate wat dooie troepe met hulle moet saamsleep.  ‘So is ongeredde lidmate,’ het die skrywer van die artikel gesê.

 

Hoeveel ongeredde lidmate is daar nie vandag in ons kerke nie: mense wat op ‘n uitnodiging gereageer het, ‘n gebed agter iemand aan opgesê het, gedoop is, as lidmate opgeneem is, en later selfs Sondagskool onderwysers, ouderlinge, en predikante geword het?  En hulle is soos ‘n Turksvy doring in ‘n mens se hand – hulle veroorsaak baie ongerief en pyn, en dit verg moeite om van hulle ontslae raak.  Om te verhoed dat ons in hierdie strik trap het die Here Op.3:1-6 vir ons laat opteken.

 

Die aanhef (v.1a)

Het jy al mense ontmoet wat baie arm is en dan skielik ryk word? Wat gebeur gewoonlik met so iemand se persoonlikheid?  Het jy al ‘n ryk persoon ontmoet wat alles verloor het en teen die grond geslaan word?  Is dit nie so dat dit in baie gevalle ‘n goeie uitwerking op hulle karakter het nie?

 

Van al die gemeentes het net Smirna en Filadelfia vervolging beleef, en tog was dit die twee beste gemeentes. Van die sewe gemeentes was dit net Sardis en Laodisea wat nie probleme met vervolging of vals lering gehad het nie.  En tog was dit die twee slegste gemeentes.  Leer dan dat lyding nie noodwendig skerp tande het nie, terwyl voorspoed bitter gevaarlik kan wees.

 

Jesus het sy brief aan die boodskapper of leraar van die gemeente in Sardis gerig (v.1a). Die stad was omtrent 80 km van die Turkse weskus af.  In die jaar 17 n.C. is die stad deur ‘n aardbewing verwoes en met die hulp van keiser Tiberius herbou.  Die stad is in 1402 finaal verwoes.  Vandag lê die klein dorpie Sart tussen die bouvalle van die ou stad.[1]

 

Jesus beskryf Homself as die Een wat die sewe Geeste van God het (v.1a). In Openbaring is sewe die volmaakte getal.  Jesus het dus die volmaakte of sewevoudige Gees:  die Gees van die Here, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here (v.1b, 1:4, 4:5, 5:6, Jes.11:2, Sg.4:2, 6).

 

Jesus is ook die Een wat die sewe sterre het (v.1a). Volgens 1:20 is die sewe sterre die sewe leraars.  Hulle word met sterre vergelyk, omdat hulle soos sterre in ‘n donker wêreld moet skyn (Fil.2:15).  Die feit dat Jesus hulle in sy hand hou (1:16) is ‘n vertroosting vir dié wat reg doen en ‘n nagmêrrie vir dié wat verkeerd doen (Jh.10:28, Heb.10:31).

 

Die vermaning (v.1b-3)

Sardis was op ‘n baie steil en hoë heuwel gebou. Die suidelike muur was so steil, dat koning Croesus nie eers wagte op daardie deel van die muur geplaas het nie.  Hy het homself oortuig dat niemand die stad kon binneval nie.  In 549 v.C. het koning Kores van Persië en sy soldate ‘n weg gevind om by die suidelike muur in die stad in te kom en dit te oorval.

 

Tog het die inwoners van Sardis nie hulle les geleer nie. Die soldate het nagelaat om wag te hou, en in 218 v.C. is die stad vir ‘n tweede keer oorval – hierdie keer deur Antiochus die Grote.  Jesus het vir die gemeente gesê om nie soos die stad te wees nie.  Hulle moes geestelik waaksaam gewees het.  Toe Jesus sy brief vir hulle geskryf het, was hulle soos my dowe labrador wat nie eers wakker word as ek met my motorfiets by sy stert verby ry nie.

 

Omdat Jesus alles weet (Jh.16:30), het Hy geweet wat in die gemeente aangaan; Hy het hulle werke geken (v.1b). Gelowiges uit ander dorpe en dalk ook die ongelowiges in hulle eie dorp, het gedink dat die gemeente van Sardis lewendig is, maar eintlik was hulle geestelik op ‘n sterfbed (v.1b, Ef.2:1, Lk.15:24, 1 Tm.5:6, Jk.2:26).  Een kommentator sê oor die gemeente:  ‘The forms were there, the ceremonies, the religious customs, the traditions, the services; but the real essence was lacking.’[2]

 

Jesus het vir die kerk gesê om wakker te word uit die slaap van die dood (v.2, Ef.5:14). Hulle gemeente het byna niks oor gehad wat die moeite werd was nie (v.2).  Dit wat hulle gehad het was op asemhalingsmasjiene (v.2).  Hulle moes alles in hulle vermoeë gedoen het om hierdie kooltjie aan te blaas, sodat die vuur weer kon brand (v.2).  Die gemeente se werke was nie volkome in die Here se oë nie (v.2, 2 Kron.25:1-2, Dn.5:27, kontr. Lk.10:27, Hd.14:26, Kol.4:17).

 

Om die situasie op te los, moes hulle teruggedink het aan die evangelie wat hulle gehoor en ontvang het, en hulle dan van hulle geestelike slaapsiekte en doodsheid bekeer het (v.3, 1 Kor.15:1, 2 Tm.1:13). Indien hulle dit nié gedoen het nie, sou Jesus op enige oomblik onverwags teen hulle gekom het soos ‘n dief in die nag (v.3, 16:15).  Alhoewel sy finale koms ook so sal wees (2 Pt.3:10, Mt.24:42-44, 1 Ts.5:2, 4), het Jesus nie hier van die wederkoms gepraat nie, want indien Sardis hulle bekeer het, sou Hy nié soos ‘n dief teen hulle gekom het nie.

 

Die belofte (v.4-6)

Carina trou in Desember. Die dag voor haar troue, toe mors haar suster se kind ‘n hele fles koffie oor haar trourok uit.  Carina het dit nie geweet nie.  Die kind het probeer om dit reg te maak deur dit met sy modderhande in die visdam af te was.  Soos jy kan raai het hy dit erger gemaak.  Wat sou jy van Carina gedink het as dit haar glad nie gepla het nie, en as sy so by die troue opgedaag het?

 

Jesus wil nie hê dat sy bruid met ‘n besmeerde kleed by die bruilof moet opdaag nie. Om by Hóm te wees moet ons klere lyk asof dit vir ‘n paar ure in JIK gelê het.  Ons lewens moenie met die koffie en modder van sonde bevlek wees nie.  Ons moet eerder soos die handjievol getroue mense in Sardis wees.

 

Ten spyte van die probleme in Sardis was daar enkele mense wat nie soos die res gesondig het nie (v.4). Jesus het geweet wie hulle is (v.4, Jh.10:14, 27, 2 Tm.2:19).  Die kleed van hulle lewens was nie met sonde besoedel nie, maar deur geloof, bekering, en ‘n heilige lewe het hulle dit wit gewas in die bloed van die Lam (v.4, 7:9, 14, 14:4, 19:8, 22:14, Jes.61:10, Rm.13:14, Gal.3:27, Jud.23).  Dié wat hulle sonde en die geestelike slaap van die dood oorwin het, sou met die wit klere van Christus se geregtigheid en ‘n heilige lewe in die hemel gewandel het (v.4-5, Fil.3:9, 1 Jh.3:2).  So sou hulle altyd volmaak en aanneemlik gewees het voor God.  Hulle sou ook vir ewig gelukkig gewees het.  ‘Heaven is happy because it’s holy.’ (Stuart Olyott).

 

Dié wat hierdie beloning ontvang het, se name sou nooit uit die boek van die lewe verwyder word nie (v.5). In Sardis het die owerhede molesmakers uit die stad uitgeskop en hulle name van die rol af verwyder.  Ook as jy gesterf het is jou naam van die rol af verwyder.

 

In die hemelse stad kan dit nie gebeur nie, omdat niemand wat dáár is ooit kan sondig of sterf nie. Ons is burgers van die nuwe Jerusalem, en sy is ons ma (Ps.87:5-6, Gal.4:26).  Nog voordat God die wêreld gemaak het, het Hy ons name in die boek van die lewe geskryf (13:8, 17:8); dit kan nie daaruit verwyder word nie (v.5).  Dié wie se name in die boek is sal nie hel toe gaan nie, maar hemel toe (20:15, 21:27).

 

Die feit dat Jesus nié hulle name uit die boek van die lewe sal verwyder nie, beteken nie dat Hy sommige mense se name sal verwyder nie.  Moenie Jesus se belofte in ‘n dreigement verander nie.  In Eks.32:32 en Ps.69:29 lees ons wel dat God mense se name uit die boek van die lewendes verwyder.  Dit verwys egter nie na mense wat hulle redding verloor nie, maar na dié wie se name van die rekord van die lewendes af verwyder word, omdat God hulle doodgemaak het.  Uit v.5 is dit duidelik dat ‘n ware gelowige nie sy redding kan verloor nie (vgl. Jh.6:39, 10:28-29, Rm.8:29-30, 38-39, Ef.1:13-14, Fil.1:6).

 

Jesus sou die oorwinnaars se name voor sy Vader en die engele bely het (v.5, Mt.10:32). Hy sou nie skaam gewees het om te sê dat hulle aan Hom behoort het nie.  Hy sou egter skaam gewees het vir dié wat onheilig was, omdat hulle Hom met hulle lippe en lewens verloën het (Mt.10:33).  Dié wie se geestelike ore oop was, moes geluister het wat die Gees vir die gemeentes sê (v.6).

 

Die toepassing

Om seker te maak dat ons nie soos Sardis is nie, moet ons onsself en ons gemeente baie mooi ondersoek. Indien ons op sekere gebiede soos hulle is moet ons verander.  Die Here is so ernstig hieroor, dat Hy soos ‘n dief in die nag teen ons sal kom as ons dit nié doen nie (v.3).  Die Here se waarskuwing moet ons aanspoor om wakker te word en om heilig te wees (vgl. 2 Pt.3:10-11).

 

Alvorens ons onsself kan bekeer moet ons weet wat ‘n dooie kerk of individu is. Moenie op die oppervlak oordeel en te vinnig aflei dat ‘n persoon of gemeente lewendig is nie (v.1b).  Die feit dat ‘n kerk baie aktiwiteite, opgewekte musiek, finansiële voorspoed, skares mense, ‘n aktiewe kinderbediening, goeie organisasie, suksesvolle sakemanne op die leierskap, en ‘n elegante prediker het, beteken nie noodwendig dat hulle lewendig is nie.  Aktiwiteite en goeie organisasie kan nie ‘n lyk laat lewe nie.  Die feit dat die kerk ‘n kilometer breed is beteken nie veel as dit ‘n sentimeter diep is nie.

 

Ons moenie maar net aanneem dat geld, geboue en getalle ‘n aanduiding van geestelike lewe is nie. Dit mag wees dat Jesus van sulke kerke sê:  “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.” (v.1b, moet asseblief nie hieruit aflei dat groot gemeentes altyd siek is, en dat kleiner gemeentes altyd gesond is nie).

 

Ons moet onsself nie meet aan wat ander van ons dink nie. Mense kan na ons gemeente of na jou lewe kyk, en dink dit is wonderlik (v.1b).  Maar Jesus ken ons werke; Hy weet wat in ons harte, gedagtes, en motiewe aangaan (v.1b).  Dus moet ons onsself aan sý standaarde meet.  As ons gemeente geestelik aan die slaap is, moet ons wakker word (v.2).  Hoe kan jy weet of ‘n gemeente geestelik dood of aan die slaap is?

 

[1] Is die gemeente meer op programme en organisasie gefokus as op gebed, sending en evangelisasie, bekerings, dissipelskap, Bybelse prediking en aanbidding, geestelike groei en gehoorsaamheid?

 

[2] Die meeste van die lidmate is nie ernstig oor heiligheid nie (v.4). Daar is gedurig lidmate en leiers wat onheilig lewe en skande maak.  Die lidmate se leefstyle wys dat hulle ongered is.  In hulle harte is daar nie ‘n begeerte om heilig te wees en hulle klere skoon te hou nie; die vlekke van bitterheid, verslawing, egbreuk, wellus, vuil taal, hoogmoed, rassisme, bedrog, leuens en baie ander sondes besoedel hulle klere (v.4).

 

Hoe lyk dit met ons gemeente? Is ons werke volkome voor die Here (v.2)?  Is daar dinge wat op die punt staan om te sterf; dinge wat ons moet versterk?  Wat van evangelisasie?  En wat van die Sondagskool?  Ons bidure is soos ‘n kers wat flou brand:  uit ‘n gemeente van 70 mense is daar nie eers 10 wat die bidure bywoon nie.  By ons Bybelstudies is daar tussen 10 en 12 mense.  Volgens Jesus moet ons die goeie dinge volhou, dit versterk, en ons bekeer (v.2-3).

 

Hoe staan sake met jou persoonlik? Begeer jy om heilig te lewe?  Haat jy jou sonde (om jou sonde te haat is nie dieselfde as om die gevolge van jou sonde te haat, of om dit te haat dat jy skuldig voel nie).  Begeer jy o.a. om in die hemel te wees, omdat jy sonder sonde wil wees?  As dit glad nie by jou ‘n begeerte is nie, of as die begeerte in jou hart soos baie flou tee is, dan is daar drasties fout.  Die kanse is goed dat jy geestelik dood is.  Laat my toe om vir jou te sê hoe en waar jy geestelike lewe kan kry.

 

Heel eerste moet jy erken dat jy geestelik dood is, en dat jou finansiële bydrae vir die kerk, jou doop en lidmaatskap, gebede, kerkbywoning, sondaarsgebed, ouderlingskap, en enige ander godsdienstige pogings niks beteken nie (Fil.3:4-7). Om God se lewe in jou hart te kry, moet Hy dit deur sy Gees vir jou gee (Jh.3:5, 8).  Sonder Hom het jy nie hoop nie.

 

Smeek Hom dan om na jou toe te kom. Bekeer jou van die sonde wat jy in jou hart koester; die sonde wat jy nie wil of kan los nie, omdat dit jóú nie wil los nie.  Bekeer jou ook van die goeie werke waarop jy staatmaak om hemel toe te gaan, want voor die Here tel dit ‘n ronde nul.  Glo, hoop, vertrou en maak staat op Jesus wat aarde toe gekom het om aan ‘n aaklige kruis te sterf.  Daar het mense Hom wreed gemartel en is Hy deur sy Vader gestraf vir ons sonde.  Volg Hom.  Dien Hom.  Wees lief vir Hom.  Gehoorsaam Hom.

 

Indien jy reeds hierdie lewe ontvang het, moet jy nie geestelik aan die slaap raak nie. Om dit te doen is dodelik gevaarlik.  Jy is soos iemand wat verkluim of ‘n harde stamp teen die kop gekry het:  as jy aan die slaap raak, dan word jy nie weer wakker nie – jy kan doodgaan.  Daarom is dit nodig dat Jesus koue water in jou gesig gooi en jou moet skud – enigiets om jou wakker te kry en wakker te hou.  Word asseblief wakker as jy geestelik slaap (Ef.5:14).  Wees wakker omdat die vyand soos ‘n honger leeu rondloop (1 Pt.5:8).  Erger as dit is dat Jesus self teen jou sal wees (v.3).  Word asseblief wakker; die huis is besig om af te brand!

 

As jy dit nie doen nie, moet jy nie verbaas wees as Jesus op die oordeelsdag sê dat jy nie een van sy kinders is nie (v.5, Mt.7:23). ‘Maar ek was ‘n lidmaat by die Baptistekerk in Kempton Park?  Ek is in 1997 daar gedoop.’  Jesus sal vir jou sê:  ‘Ek ken jou nie.  Jou onheilige lewe het gewys dat jy nie aan My behoort het nie’ (Lk.13:24-27).

 

Sal dit nie soveel lekkerder wees as Hy sê: ‘Ferdi… Sumari… my kinders!  Ek is so bly om julle te sien.  Kom gerus in die Koninkryk van my Vader in.  Ek het vir julle wag – welkom tuis!’?

 

Europa is bekend vir sy katedrale. Baie van hierdie geboue het museums en toeriste aantreklikhede geword.  Die gebou met sy kunswerk en argitektuur is asemrowend.  Tog is dit net ‘n gebou, omdat daar nie mense bymekaarkom wat die Here in gees en in waarheid aanbid nie.  Geestelik is dit ‘n begraafplaas.  Mag die Here ons bewaar, sodat ons nie so word nie.

 

[1] Inligting oor Sardis het ek verkry uit die volgende bronne: [1] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Sardis.  [2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Sardis. [3] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, pp.421-423).  [4] Colin J. Hemer, The Letters to the Seven Churches of Asia in their Local Setting, pp.129-134.  [5] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, nota op Op.3:1.

[2] William Hendriksen, More Than Conquerors, p.91

Wanneer God se volk Hom verwerp

Talk to the hand

As die Here wil begin ek volgende week ‘n reeks in Openbaring. ‘n Algemene fout wat mense maak wanneer hulle die boek interpreteer, is om te maak asof dit niks te doen het met die Christene wat in Johannes se tyd geleef het nie.  Hulle dink dit het te doen met Rusland, masjien gewere en die Verenigde Nasies.  Maar eintlik is daar baie verse in die boek wat te doen het met God se oordeel oor Israel, omdat hulle hulle Messias verwerp het en Hom gekruisig het.

 

Jh.5:1-18 is maar net die buitelyne van ‘n prentjie wat later met hulle bebloede hande ingekleur sou word. Laat ons dan hierdie waarskuwing ter harte neem en nie dink dat ons staan nie, want anders sal ons net soos hulle val.

 

Die man se genesing (v.1-9a)

In 2007 het ek ‘n sendeling in Taiwan besoek. Op ‘n dag het een van die sendelinge my na ‘n natuurlike warmwater bron toe gevat.  Die baddens ontspring uit ‘n vulkaniese berg.  By die fonteine is die water 100°C.  Dit vloei dan vir ‘n kilometer of twee, totdat dit groot baddens vorm waarin ‘n mens kan sit.  Volgens die land se mense is die water goed vir arthritis en baie ander kwale.  Volgens argeoloë is dit moontlik dat die bad van Bethesda in Jerusalem só ‘n waterbron met genesende eienskappe was.  En dit is hiér wat die genesing van die lam man afspeel.

 

Nadat Jesus die amptenaar se seun in Galilea genees het, het Hy teruggegaan Jerusalem toe. Hy was daar vir een van die Joodse Feeste (v.1, Dt.16:16).  Hy was by die Skaapspoort waarvan ons in Neh.3:1, 32 lees (v.2).  Geleerdes meen dat hierdie poort direk met die tempel verbind was, en dat die skape wat vir die offers bedoel was deur hierdie poort gekom het.

 

Die bad van Betesda of ‘huis van genade’ was hier en het gestaan onder ‘n dak wat deur vyf pilaargange ondersteun is (v.2). Tussen die rye pilare was daar talle verlamdes, gebreklikes en blindes (v.3).  Sommige manuskripte sê dat die mense “op die roering van die water gewag het.  Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer.  Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.” (v.4, OAV).  Hierdie vers kom egter nie in die beste manuskripte voor nie.

 

Maar dit mag wees dat die minerale in hierdie bad genesende eienskappe gehad het, en dat die roering in v.7 deur die opborreling van ‘n fontein veroorsaak is.[1]  Dit mag wees dat die Jode in hierdie verse regtig geglo het dat ‘n engel die water roer, sodat die persoon wat eerste in die bad geklim het genees is (vgl. 2 Kon.5:10, 14).

 

Een van die mense wat langs die bad gelê het was al vir 38 jaar bedlêend (v.5, 8). Menslik was daar nie hoop dat hy genees kon word nie.  Tog het Jesus nie soos die res verby hom geloop nie – Hy het hom daar sien lê; Hy was sensitief vir mense se lyding (v.6).  Omdat Hy God is het Hy geweet dat die man al vir ‘n lang tyd siek was, dat hy gereeld by die bad was, en dat hy graag genees wou word (v.6).  “Wil jy gesond word?” het Hy vir hom gevra.

 

Die siek man het iemand nodig gehad om hom in die bad te sit (v.7). Hy het eintlik by Jesus geskimp om hom in die bad te sit wanneer die water opborrel.  Hy het nie geweet dat Jesus hom wou of kon genees het nie (v.7, 13).  Jesus het vir hom gesê om op te staan, sy bedmatjie op te tel, en te loop (v.8, vgl. Mt.9:6-7).  Die man het nie gesê:  ‘Ek kan nie loop nie,’ maar het gedoen wat Jesus beveel het (v.9a).  Na 38 jaar is hy sonder rehabilitasie of terapie onmiddellik genees.  Hierdie wonderwerk het weereens bewys dat Jesus die Messias en die Seun van God is (20:30-31), dat Hy almagtig en soewerein is om te genees.

 

Die Jode se teenkanting (v.9b-18)

Die Mishna is Joodse oorlewerings, tradies en wette wat later by die eerste vyf boeke van die Bybel bygevoeg is. In teorie het hulle dit nie as Skrif aanvaar nie, maar in die praktyk het hulle dit tot op die vlak van die Skrif verhef.  Dit is presies wat Jesus in Mt.15:6 vir hulle gesê het:  “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.”  Hulle het dit o.a. gedoen wanneer dit by die Sabbat kom.  Hulle het 39 wette gehad waarin hulle duidelik uitgespel het watse aktiwiteite ‘n mens op die Sabbat mag doen en wat nie.

 

Hulle het byvoorbeeld gesê dat ‘n mens nie op die Sabbat asyn op jou tande mag sit om ‘n tandpyn weg te vat nie. Jy mag egter die asyn op jou kos sit.  As die asyn dán jou tandpyn wegvat is dit toelaatbaar, omdat dit toevallig was (Shab.14:4).  Op die Sabbat mag jy wyn en olie vate by jou naaste leen.  Jy mag net nie vra om dit te leen nie, omdat dit ‘n transaksie is.  ‘n Transaksie vereis dat jy moet skryf, en om te skryf is werk (Shab.23:1).[2]

 

Vir die Jode was gehoorsaamheid aan hierdie wette belangriker as ander mense se voordeel. Hulle wettiesisme het hulle liefdeloos, koud en hart gemaak – nie net teenoor hulle naaste nie, maar ook teenoor hulle Messias en hulle God.

 

Die dag waarop Jesus die man gesond gemaak het was ‘n Sabbat (v.9b, vgl. 7:23, 9:14, Lk.13:14). God het nie die Sabbat gegee om mense met swaar reëls en wette te belas nie, maar sodat die mens sy batterye kon herlaai:  geestelik, fisies, sosiaal, intellektueel, en emosioneel.  “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.” (Mk.2:27).  Jesus het dit nie as werk beskou om mense te help nie, maar as ‘n daad van liefde.

 

Maar volgens die Jode was dit onwettig vir die man om sy bedmatjie op die Sabbatdag rond te dra (v.10). Hulle kon nie gesê het dat hulle dit uit Jer.17:21-22 gekry het nie, omdat die man nie ‘n swaar las gedra het nie:  “So spreek die HERE:  Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die sabbatdag en dit inbring deur die poorte van Jerusalem nie.  Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het.”

 

Die man het vir die Jode gesê: ‘Die man wat my gesond gemaak het, het gesê ek moet my bed optel en loop’ (v.11).  ‘Wie is die man wat vir jou gesê het om met jou bedmatjie rond te loop?’ het hulle gevra (v.12).  Die genesing het hulle glad nie beïndruk nie.  Al waarin hulle vasgekyk het was dat hy die tradisies van hulle voorvaders oortree het.  Hulle het nie daarin belanggestel om vir Jesus te aanbid nie, maar om Hom te vervolg (v.18).

 

Die man het nie geweet waar of wie Jesus was nie (v.13). ‘n Tydjie later het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê:  “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (v.14).  Was die man siek was a.g.v. van een of ander sonde wat hy gedoen het (kontr. 9:1-3)?  Of het Jesus bedoel dat die man besig was met sonde, omdat hy Hom aan die Jode wou oorlewer?  En wat is die ‘erger’ ding wat sou gebeur het as hy met sy sonde aangehou het?  Dit mag wees dat hy sieker sou geword het as voorheen.  Maar meer waarskynlik bedoel Jesus dat hy in die hel sou beland het.  Dit is hartseer dat die man wat genees is nie in Jesus geglo het nie.  Dalk was hy ‘n prentjie van Israel wat die Seun van God se wonderwerke gesien het, maar nie in Hom geglo het nie (2:23-25).

 

Die man het nie vir Jesus geluister nie, maar het dadelik vir die Jode gaan sê dat dit Jesus was wat hom genees het (v.15).  Hy het homself oortuig dat daar nie iets erger met hom sou gebeur het nie.  Toe die Jode gehoor het dat dit Jesus was wat hom genees het, het hulle Hom aanhoudend vervolg (v.16, Gk.).  Die feit dat hulle Hom vir ‘n goeie daad vervolg het, wys iets van die hardheid van hulle harte (10:32).

 

‘Ek en my Vader het ons skeppingswerk op die sewende dag voltooi, maar dit beteken nie dat Ons nie nogsteeds besig is om te werk nie. Ons onderhou elke hartklop, gee kos vir die kraaie, en sorg dat die aarde om sy eie as draai.’  Dit is basies wat Jesus met v.17 bedoel het (Heb.1:3, Kol.1:17).  Daarom was dit nie verkeerd vir Jesus – die Here van die Sabbat (Mk.2:28) – om hierdie man op die Sabbat te genees nie.  Hy was net besig om die skepping onderhou.

 

Toe die Jode dit gehoor het was hulle woedend, en wou hulle Hom doodmaak (v.18, 7:1, 10:33, 36). In hulle oë het Hy die Sabbat ‘gebreek’ en Homself op ‘n gelyke vlak met God gestel, omdat Hy Hom sy eie Vader genoem het (v.18).  Volgens 19:7 is dít hoekom hulle Hom gekruisig het:  “Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.”  Die ironie is dat hulle reg was:  Hy was in elke opsig met die Vader gelyk (v.19-29, 20:28, Fil.2:6, Kol.2:9, Heb.1:3).

 

Moenie die voorregte van die evangelie gering ag nie. Moenie soos Israel wees en die Here verwerp nie.  Lees jy jou Bybel?  Gebruik jy die vryheid wat die Here vir jou gegee het om met mense die evangelie te deel?  Speel die kerk ‘n sentrale rol in jou lewe, of is dit vir jou ‘n bysaak?  Vertel jy daagliks vir jou kinders van die groot dinge wat die Here gedoen het?  Is gebed en die samekoms van die gelowiges iets waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

 

As ons nie die voorregte gebruik wat die Here vir ons gee nie, sal Hy dit van ons af wegvat sodat ons soos Israel word. Hulle lees elke Saterdag die Ou Testament, maar verstaan dit nie (2 Kor.3:14-15).  Omdat hulle hulle oë en ore vir die waarheid toegesluit het en die Messias verwerp het, het God hulle verblind en hulle ore doof gemaak sodat hulle dit nie kán glo nie (12:39-40).

 

Sal dit nie aaklig wees as die Woord en gebed in skole verbied word nie? Wat as die regering besluit om kerke toe te maak, Bybels te brand, Christelike boekwinkels te sluit, en prediking te verban; as daar ‘n hongersnood kom om die woorde van die Here te hoor (Am.8:11)?  Of wat as ons nog die kerk en die Bybel het, maar ons nie meer die Here se teenwoordigheid ervaar nie, omdat ons ons eerste liefde verlaat het, of omdat ons geestelik lou geword het (Op.2:4-5, 3:15-16)?  Hoe moet dit wees as jy vas en bid, maar die Here jou nie antwoord nie, omdat jy jou ore toegestop het toe Hy met jou gepraat het (Sg.7:13, Jes.58:3, Sp.1:28)?

 

Dalk sê jy: ‘Ons leef nie meer in die Ou Testament nie, maar is deel van die Nuwe Testamentiese kerk.  Ons kan nie die Here verwerp soos wat Israel gedoen het nie, en Hy sal ons ook nooit verwerp nie.’  Jy is reg om te sê dat die Here nooit sy uitverkorenes sal verwerp nie.  Hy sal selfs uiteindelik die Jode herstel en tot geloof in sy Seun bring (Rm.11:1-2, 23, 25-26, 28-29).  Dit beteken egter nie dat almal wat op die kerk se lederol is, gered is nie.  ‘n Tak wat nie vrugte dra nie word afgesny en in die vuur gegooi (vgl. 15:6).  Paulus waarsku in Rm.11:20-22:

 

“Deur ongeloof is hulle [Israel soos ‘n olyfboom se takke] afgebreek, maar jy [‘n heiden wat met die gemeente assosieer] staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.  Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.  Let dan op die goedertierenheid en die strengheid van God:  strengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.”

 

Jesus sal nie sy skape weggooi nie, maar dit is baie moontlik dat Hy ‘n plaaslike gemeente se deure kan sluit, omdat hulle ontrou geword het (Op.2-3). Laat ons dan nie ons voorregte vanselfsprekend neem, sodat ons begin om dit af te skeep nie, maar laat ons luister na wat die Here vir ons wil sê:  “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie… hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam…?’ (Heb.2:1, 3).

 

Dalk dink jy nogsteeds dat jy nie soos die Jode die Here sal verwerp nie, en dat hierdie preek nie regtig op jou van toepassing is nie. Onthou dat afvalligheid nie in ‘n dag gebeur nie.  Jou gewete pla jou, maar jy sê vir jouself dat dit net ‘n klein dingetjie is.  Die kompromie wat jy met sonde aangaan is nie groot nie.  En so beweeg jy treetjie vir treetjie van die Here af weg.  Voordat jy jouself kry lê jy saam met iemand anders se huweliksmaat in ‘n bed, of doen jy dinge wat niemand van jou verwag het nie.  En dan kyk jy vir jouself in die spieël en jy sê:  ‘Ek glo in elk geval nie meer in God en die Bybel nie.’

 

Ek wil jou vra om nie slap te lê of op te gee in hierdie wedloop nie. Byt vas en volhard enduit.  “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Heb.10:24-25).

 

[1] Leon Morris, The Gospel According to John, p.302

[2] Aangehaal in Ibid, p.305 n.25