God se byl

Axe

Jy ken seker die storie van Thor se hamer?  In Noorse mitologie was Thor die god wat met donderweer geassosieer is.  Die naam Donderdag of Thursday is van hierdie naam afgelei (Thor’s Day).  Sy hamer se naam is Mjölnir, en is veronderstel om een van die magtigste wapens op aarde te wees.  Die ou Noorweërs het gesê dat die berge kon platslaan.  Ons weet natuurlik dat Thor nie regtig bestaan het nie, en dat dit ‘n mite is.  Die God van Israel en sy byl is egter nie mite; Jes.10:5-34 praat daarvan.

 

Die val van Assirië (v.5-19)

God was kwaad oor goddelose Israel se sonde, en het vir Assirië as sy staf en roede gebruik om haar te slaan (v.5-6, 9:16).  Hy het nie maar net die Assiriërs toegelaat om vir Israel aan te val nie, maar het hulle beveel soos wat Hy die sneeu en die wind beveel (v.6, vgl. Hab.1:6).  Hy het vir hulle gesê om sy volk dood te maak, om hulle te plunder, en om hulle soos modder in die strate te vertrap (v.6, 8:1-4).

 

Assirië se motief was egter nie om die Here se heilige en regverdige oordele uit te voer nie, maar om sy eie mag te toon en om absoluut te verwoes (v.7).  Sy motief was sondig (v.7), terwyl die Here s’n heilig was (v.5-6).

 

Dit is byna soos ‘n ma wat haar vierjarige dogter met ‘n boodskap na haar boeties toe stuur:  ‘Gaan sê vir jou boeties ék sê hulle moenie so rof met jou speel nie.’  Met die gesag van ‘n grootmens gaan sy na haar boeties toe.  Sy steek vir hulle tong uit en sê:  ‘Mamma sê julle moet dadelik ophou om so rof met my te speel, anders gaan sy julle pak gee!’  Die ma se intensie verskil heeltemal van haar dogter s’n.  So was dit ook met God en Assirië (v.5-7).

 

Assirië was arrogant en het nie erken dat sy mag van die Here af kom nie.  Hy het in homself geroem (v.9-11):  ‘Wanneer ek ‘n nasie oorwin, word hulle koning ‘n leier in my weermag.  Ek het ook die groot stede wat in die strook langs die Middellandse See lê, platgevee.  Van noord tot suid was dit Karkemis, Arpad, Kalno, Hamat, Damaskus en Samaria.  Dit is net logies dat Jerusalem die volgende groot stad in my visier is.  Toe ek my hand uitgestrek het om die nasies vir myself te vat, het nie een van hulle gode my gekeer nie.  Hoe gaan Jerusalem en haar gode my dan keer?’

 

Die onsigbare God van Israel en Juda sou hom gekeer het (2 Kon.19:17-19).  As die Here klaar sy volk getugtig het, sou Hy die arrogante koning van Assirië vir die trots in sy hart en oë gestraf het (v.12, 37:37-38).  In sy arrogantheid het hy gesê:

 

‘Deur my sterk hand en wyse oorlogstrategie het ek al hierdie stede verower en hulle skatkamers geplunder.  Ek skuif lande se grense soos ek wil.  Ek is soos ‘n bul wat rooi sien:  ek bring konings op hulle knieë voor my; ek bring hulle van hulle trone af (v.13).  Ek is soos iemand wat ‘n verlate nes vol eiers kry – ek vat dit vir myself.  Die rykdom van die volke en van die hele aarde is myne.  Soos ‘n bang voël het niemand dit gewaag om ‘n vlerk te flap of te twiet nie’ (v.14).

 

God het vir die arrogante koning van Assirië gelag.  ‘Waar het jy al gesien dat ‘n byl of saag beter is as die een wat dit gebruik?  Sonder die houtkapper is die gereedskap nutteloos.  Tel die staf of roede die man op of andersom?  Die staf is van dooie hout gemaak en kan niks doen nie’ (v.15, 5).

 

Die Here van die Leërskare het besluit om die koning van Assirië en sy dapper soldate met ‘n verwoestende siekte te straf (v.16).  Só het Hy hom en sy heerlikheid in een nag vernietig (v.16-17, 37:36).  Assirië was die doringtakke en die onkruid; God was die vuur wat hulle verteer het (v.16-17, Heb.12:29).

 

God het die Assiriërs gebruik om sy volk soos ‘n woud aan die brand te steek (9:17-18).  Nou het Hy húlle soos ‘n woud aan die brand gesteek (v.16-18).  Hy sou hulle liggaam en siel verwoes het soos wat siekte ‘n mens se liggaam uitteer (v.18, Mt.10:28).  As God klaar die Assiriërs vernietig het, sou hulle soos ‘n woud gewees het waarvan die bome afgekap is.  Die soldate in sy weermag sou m.a.w. so min gewees het, dat ‘n kind hulle kon tel (v.19).

 

Om v.5-19 reg toe te pas, moet ons verstaan dat dit oor God se soewereiniteit gaan, en dat Hy oor alles en almal regeer (Ps.103:19).  Hy is soewerein oor bose nasies en hulle konings (v.5-6).  Dit is Hy wat konings aanstel en hulle weer afsit (Dn.2:21).  Al dink ‘n regering of ‘n leier dat hulle in beheer is, is God die Een wat hulle aangestel het (v.5-15, Rm.13:1).  Die mag wat hulle het kom van Hóm af (Jh.19:11).

 

Ons hoef dus nie bang te wees wanneer sekere leiers in ons land arrogant is en praat asof húlle in beheer is nie.  Ons moenie die toekoms vrees nie, maar op die Here vertrou.  Hy is by magte om mense se bose dade te gebruik om sy goeie planne uit te werk (v.5-7, Gn.45:5, 8, 50:20, Ps.105:17, Hd.2:23, 4:27-28).

 

Dit geld ook op ‘n individuele vlak.  Die Here is soewerein as Sarel sy vrou sleg behandel, of as Alicia van haar man skinder.  Hy is soewerein as Gert rebels is en sy ouers se hart breek.  Hy is soewerein as Retha se vyand ‘n leuen oor haar vertel, of as Pieter se kollegas hom kritiseer.

 

Soos met Israel, gebruik Hy mense om ons te verneder en na Hom toe te draai.  Ondersoek daarom jou eie hart om te sien of dinge in jou lewe reg is.  Indien nie, moet jy dit regstel.  Bely jou sonde en bekeer jou daarvan.  Lê stil onder die Here se swaar hand, en wag totdat Hy jou op die regte tyd verhoog (1 Pt.5:6).  Probeer om nie bitter te raak nie, maar gee aanhoudend jou probleem in gebed vir die Here (1 Pt.5:7).

 

Die punt wat ek wil maak is nie dat die Here kop in een mus is met die mense wat teen jou sondig nie.  Sy intensies met jou beproewing is goed, terwyl die mense wat Hy gebruik slegte motiewe het (v.5-7).  Die troos lê egter daarin dat selfs slegte mense nie kan doen wat hulle wil nie.  Die Here sal hulle gebruik om sý planne uit te voer (v.5-15).  En aan die einde van alles sal Hy hulle oordeel vir wat hulle aan sy kinders gedoen het (v.16-19).  Laat ons dan leer om deur geloof en gebed ons probleme in sý bekwame hande te los.

 

Die bekering van Israel (v.20-34)

Het jy al ooit ‘n plant in jou tuin gehad wat jy nie kon uitroei nie?  Sodra jy dink jy het dit uitgeroei, kom dit weer op.  Dit is asof jy dit net nie kan uitroei nie.  Maar as jy hard probeer sal jy dit regkry.

 

Met God se kinders is dit anders.  Al staan al die magte van die hel teen God se kinders op, kan hulle ons nie uitroei nie.  So was dit in v.20-34 met God se volk.

 

Ons onthou uit hfst.7 hoe die konings van Israel en Sirië vir Jerusalem aangeval het.  Jerusalem het vir Assirië gevra om te help, maar op die ou end toe draai hy om en toe veg hy téén haar (1 Kon.16:7, 2 Kron.28:20).

 

Maar in die toekoms sou dit nie so gewees het nie.  Die oorblyfsel van Israel sou nie meer op die koning van Assirië vertrou het nie, maar op die Here (v.20, vgl. die betekenis van Sjear Ja-sjub in 7:3).  Met ‘n opregte hart en in waarheid sou hulle op die Heilige van Israel gesteun het (v.20).

 

Na Israel se ballingskap sou die oorblyfsel van die volk nie net na die land toe teruggekeer het nie, maar na die Here toe (v.21).  Hulle sou dus tot bekering gekom het en in die magtige God van Jakob geglo het (v.21, 9:5).

 

Volgens God se belofte aan Abraham was Israel soos die sand van die see, maar nou het hulle as ‘n oorblyfsel teruggekeer (v.22, Gn.22:17).  Volgens die Here se raadsplan het Hy die volk verwoes en uitgeroei (v.22).  Dit het Hy gedoen omdat Hy vol van geregtigheid was, en die volk vol van sonde (v.22).  Sy besluit om hulle uit te roei was heeltemal heilig en regverdig (v.22).  Sy oordele het nie net vir Israel gegeld nie; die ander nasies sou ook deurgeloop het (v.23).

 

God het die Assiriërs gebruik om vir Samaria te straf.  Hulle sou egter nie suksesvol gewees het teen Jerusalem nie; dit was onnodig dat sy die roede van Assirië gevrees het soos wat sy dit in Moses se tyd onder die Egiptenare gedoen het (v.24, 2 Kon.19:6, Eks.2:11, 23).

 

‘n Kort tydjie na Assirië se aanval op Jerusalem, het die Here hom vernietig (v.25).  So het die eens magtige wêreldryk tot ‘n val gekom, sodat daar vandag minder Assiriërs is as Afrikaners.  Soos wat hy ‘n roede teen Israel was (v.24), sou die Here ‘n sweep teen hom gewees het (v.26, 37:36-38).  God sou hom getref het soos wat Hy in Gideon se tyd die Midianiete getref het (v.26, 9:3, Rgt.7:25).  Die Here sou sy staf oor Assirië gelig het soos Hy dit by die Rooi See oor Egipte gelig het (v.26).

 

Daarna sou Assirië se slawejuk nie meer op Jerusalem se nek en skouers gewees het nie (v.27, 9:3, 2 Kon.18:14, Nah.1:13).  Wat beteken v.27 as dit sê dat die juk a.g.v. die vettigheid vernietig sal word?  Die Hebreeuse woord [shemen] verwys na die salfolie waarmee Israel se konings gesalf is.  Die juk sou dus gebreek word, omdat God ‘n verbond met Dawid en sy nageslag gemaak het (2 Sm.7:14).  Assirië kon dit daarom nie regkry om vir Israel te sink nie.

 

Hy het wel die kleiner dorpies in Juda vernietig, en was van daar af oppad om teen Jerusalem te veg (v.28-32).  Die dorpies wat gelys word is ‘n paar kilometer van Jerusalem af.  Hulle was bang en het na Jerusalem toe gevlug.  Die Assiriërs was oppad om teen Juda se hoofstad (Jerusalem) te veg.  Hulle het egter 2 km van Jerusalem af by ‘n dorp genaamd Nob gehalt (v.32).  Assirië het sy vuis vir Jerusalem gewys, maar God het hom gekeer om teen haar te veg (v.32).

 

Assirië was ‘n byl in die Here se hand (v.15).  Die Here het egter die situasie omgekeer en met almagtige houe die reuse en hoogmoedige boom van Assirië afgekap (v.33, 2:11-13, 17).  Met ‘n geweldige slag sou die boom aarde toe gekom het (Esg.31, 17:24, Dn.4).  Met sy byl het God die boom en die hele bos se takke afgekap (v.34, 18, kontr. v.15).  Babilon was die nuwe byl wat Hy gebruik het om hierdie majestieuse en magtige seder van Lebanon – Assirië – af te kap (v.34, Esg.31).

 

Hoe moet ons hierdie gedeelte toepas?  Vandag is daar bittermin Jode wat in die sterke God van v.21 en 9:5 glo (Rm.9:27-28, 11:5), maar in die toekoms sal baie van hulle tot bekering kom (Rm.11:25-26).  Onthou dat die Jode se bekering groot seën vir die wêreld sal beteken, en dat baie heidene as gevolg daarvan gered sal word (Rm.11:12, 15).

 

Moet dan nie nalaat om vir hulle bekering te bid nie.  ‘n Skotse prediker in die 1600’s het gesê:  ‘They forget a main point of the Church’s glory, who pray not daily for the conversion of the Jews.’[1]  Ek bedoel nie dat ons nie ernstig vir die redding van al die nasies moet bid nie, maar eerder dat ons nie van Israel moet vergeet nie.

 

Nog ‘n les is dat ons nie die vyand hoef te vrees nie (v.24).  Hy mag miskien sterker as ons wees, maar Hy is nie sterker as die Here nie.  God sal hom met ‘n almagtige slag tref en finaal tot ‘n einde bring.

 

Wat Hy in v.24-34 met die Assiriërs gedoen het, sal Hy met elke arrogante regering doen.  Soos groot bome sal Hy hulle afkap.  Die boom van sy Koninkryk sal die grootste wees (Dn.2, Mt.13:31-32).  En wat Hy met die Koninkryke van hierdie wêreld gedoen het, sal Hy ook met Satan en die koninkryk van duisternis doen.

 

Dit help nie dat enige vyand sy of haar vuis teen Jesus en sy kerk lig nie (v.32, Mt.16:18).  Jy kan dan moed skep en weet dat die Here nooit een van sy kinders sal laat val nie.  Niks kan ons van sy liefde skei nie, en niemand kan ons uit sy hand uit ruk nie (Jh.10:28-29, Rm.8:38-39).  Hy het die goeie werk van verlossing in jou begin, en sal dit voltooi tot op die dag wanneer Jesus terugkeer (Fil.1:6).

 

As God aan jou kant is, is sy byl nie gevaarlik nie.  Ek bedoel nie dat dit nooit met jou sal sleg gaan nie, maar dat Hy selfs die beproewing waardeur jy op die oomblik gaan tot jou voordeel sal gebruik.  Sy byl sal vir jou ‘n operasiemes wees wat die kanker van sonde uitsny, en nie ‘n voorwerp van verwoesting nie.

 

[1] Robert Leighton aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, p.75

Advertisements

Jesus by die Rooisee

Red Sea parting

Wat is die sentrale gebeurtenis in die Ou Testament?  Watse Ou Testamentiese gebeurtenis word meer dikwels na terugverwys as enige ander gebeurtenis?  Wat word beskou as God se grootste wonderwerk in die Ou Testament?  Ek gaan ‘n skoot in die donker skiet en raai dat dit die verdeling van die Rooisee, en God se verlossing van Israel uit Egipte is.  Dit is die gebeurtenis waarna ons vandag gaan kyk (Eksodus 13:17-15:21).

 

Jesus is wys (hfst.13)

Op 8 Desember 1840 het David Livingstone in Skotland op die George geklim en na Suid-Afrika vertrek om ‘n sendeling te wees.  Hy was vir drie maande op ‘n stormagtige see.  Toe die skip se voorste mas gesplit het, moes die George by Rio de Janeiro stop om herstel te word.  Terwyl Livingstone in Brasilië was het hy quinine in die veld gekry.  Jare later het hy dit in Afrika gebruik as ‘n teenmiddel vir malaria.  God het gesorg dat die skip ‘n ompad moes seil, sodat Hy jare later baie mense van malaria kon red![1]

 

Dieselfde het in 13:17-22 gebeur toe God vir Israel met ‘n langpad Kanaän toe laat trek het.  Hy het gekeer dat hulle die kortpad deur Filistia gevat het, en het gemaak dat hulle by die Rooisee om en deur die woestyn moes trek.  Hy het dit gedoen omdat (sien 13:17-18, 20, 3:12, 14:11-12):

 

  • Hy sy heerlikheid en krag wou wys by die Rooisee
  • Hy die Egiptenare wou verdrink
  • Hy wou keer dat sy volk terugdraai Egipte toe as hulle oorlog teëkom in Filistia (vgl. Numeri 14:1-4)
  • Hy sy goedheid en mag wou wys deur kos en water te voorsien in die woestyn
  • Hy sy volk Sinaï toe wou vat om Hom te aanbid en sy wet te ontvang

 

Die volk het uit Egipte vertrek en Josef se bene saamgevat (13:19).  Josef het geglo dat God die volk sou verlos en het sy broers laat sweer dat hulle sy bene in Kanaän sou begrawe (Genesis 50:24-25, Hebreërs 11:22).  Israel het sy laaste wense eerbieding en sy bene in Kanaän begrawe (Josua 24:32).

 

God het voor die volk uitgetrek in ‘n wolk- en vuurkolom (13:21-22).  Hierdie bakens sou vir hulle rigting aandui, skaduwee bied teen die woestynson, hitte en lig gee in die nag, Jesus se glansryke heerlikheid verberg, en ‘n plek wees waar Hy met Moses kon praat (16:10, 33:9-10, Numeri 9:15-23, Psalm 105:39, Jesaja 4:5, Lukas 21:27).

 

Ons moet in die lig van sy wysheid lewe.  Soms sal Hy jou met die langpad langs lei.  In sulke tye moet jy nie kla, verbitterd raak, ongeduldig wees, hopeloos voel, of besluit om jouself uit te help nie.  Saul was versoek om nie vir die Here se tyd te wag nie, en het homself uitgehelp (1 Samuel 13:8-13).  Satan het vir Jesus versoek om nie op die Here te wag nie, maar Homself uit te help (Matteus 4:3-4).  Jesus het nie toegegee nie.

 

Vertrou die Here se wysheid.  Glo dat Hy die situasie beheer en dat Hy goed is.  Hou aan met bid en moenie moedeloos word nie (Lukas 18:1).  Prys Hom vir sy goedheid en wysheid.  Hierdie riglyne sal help as daar ‘n ongeluk op die R21 is en jy die langpad moet vat.  Augustinus moes Rome toe gaan om te preek.  Die gids het per ongeluk ‘n verkeerde afdraai geneem, sodat hulle die langpad moes vat.  Toe hulle in Rome kom het hy gehoor dat sluipmoordenaars hom op die kortpad ingewag het.

 

Ons regering kan nie my vriend se papierwerk uitsorteer nie.  Nou moet hy al die pad terugvlieg Amerika toe om dit reg te kry.  Is die Here in beheer van hierdie ‘ompad’?  As jy vir lank werkloos is, beheer God jou ‘langpad’.  As jy vir jare wag om te trou of kinders te hê, is dit God wat in beheer is van jou ‘langpad’.  As jou rekenaar blaas en jy al jou werk moet oor doen, is God in beheer van hierdie ‘ompad’.  William Carey het baie vertalingswerk gedoen in Indië.  Op ‘n dag toe brand die stoorhuis met al sy manuskripte af.  Wat ‘n verlies; hy moes al die werk oor doen!  Maar God was in beheer van hierdie ‘langpad’.  In Engeland het baie mense hiervan gehoor, sodat daar baie ekstra finansies en ook nuwe sendelinge bygekom het.  As jy vir baie lank siek is kan jy glo dat God in beheer is van jou ‘langpad’.  Wat van ‘n kind wat vir jare rebels is?  God is in beheer van hierdie ‘langpad’.  Vertrou en volg die Here se wysheid en nie jou eie nie.  Die Skrif sê:  “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.” (Spreuke 28:26).

 

Jesus is sterk (hfst.14)

‘n Liberale predikant het by ‘n Amerikaanse negerkerk gepreek.  In sy preek het hy gepraat van Israel by die Rooisee.  Iemand in die gehoor het gesê:  ‘Praise de Lord!  Takin’ all dem children through de deep waters.  What a mighty miracle!’  Die prediker het gefrons en gesê dat dit nie ‘n wonderwerk was nie, omdat Israel deur ‘n 30cm-diep Rietsee getrek het.  Die man het gesê:  ‘Praise de Lord!  Drownin’ all dem Egyptians in six inches of water.  What a mighty miracle!’[2]

 

Mense wat sê dat Israel deur die Rietsee getrek het, kry hulle idees by liberale skeptici.  Daar is genoegsame bewyse dat Israel deur die Rooisee en nie deur die vlak Rietsee getrek het nie.[3]  Eksodus 14 beskryf ‘n massa water wat die Egiptiese weermag, strydwaens, en perde verdrink en verpletter het.  Dit kon onmoontlik in vlakwater gebeur het.  Buitendien kan daar nie mure van water wees in ‘n vlak Rietsee nie (14:22, 29).

 

Die volk het by die see kamp opgeslaan.  God het Farao se hart verhard, sodat hy met sy hele weermag – offisiere, strydwaens en al – vir Israel agterna gesit het (Psalm 105:25).  Dit het God gedoen omdat Hy sy mag oor Farao en die Egiptenare wou wys (14:1-9).  Toe die volk die Egiptenare sien, het hulle baie bang geword (14:10).  Selfs nadat hulle gesien het hoe God Egipte met die tien plae verwoes het, het hulle nogsteeds nie geglo nie en was hulle bang.  Die volk het tot die Here geroep, maar dadelik weer vir Moses beskuldig.  “Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe?  Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het?” (14:11).  Hulle was sarkasties:  Egipte staan immers bekend as die land van grafte (die piramides).  ‘Is daar nie genoeg grafte in Egipte nie dat jy ons in die woestyn wil begrawe?!’

 

Alhoewel die volk rebels was, het God hulle gered sodat sy groot Naam bekend kon word:  “Ons vaders in Egipte het nie ag gegee op u wonders, hulle het nie gedink aan die menigte van u goedertierenhede nie, maar was wederstrewig by die see, by die Skelfsee.  Maar Hy het hulle verlos om sy Naam ontwil, om sy mag bekend te maak.” (Psalm 106:7-8).

 

Die volk het gesê:  “Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie:  Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien?  Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.” (14:12).  Duidelik het die volk nie onthou hoe erg die slawerny was nie.  So kan ons ook gou vergeet dat ons uit die slawerny van sonde gered is:  “want hy by wie hierdie dinge [Christelike kwaliteite] nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” (2 Petrus 1:9).

 

Die volk moes net stil wees, nie vrees nie, en in geloof vorentoe beweeg:  God sou vir hulle veg (14:13-15, Deuteronomium 1:30-31, Jesaja 30:15, Hebreërs 11:29).  Die Rooisee is ‘n mooi illustrasie van God se werk en ons reaksie in verlossing.  Ons het niks bygedra tot ons redding nie.  Ons was stil – die Here het vir ons geveg (die kruis).  Ons moet egter in geloof reageer en doen wat Hy vir ons sê:  ‘Bekeer jou en glo die evangelie!’

 

Die Engel van die Here was in die wolk wat skeiding gebring het tussen die Israeliete en die Egiptenare (14:19-20).  Volgens 3:2, 6, 14-15, 23:20-21, Jesaja 63:9 is die Engel van die Here God self.  Uit die Nuwe Testament weet ons dat dit Jesus is.  Ja, dit was Jesus wat die Israeliete deur die woestyn gelei het (1 Korintiërs 10:9).  “Now I want to remind you, although you once fully knew it, that Jesus, who saved a people out of the land of Egypt, afterward destroyed those who did not believe.” (Judas 5, ESV).

 

Moses het sy staf opgelig.  Die Here het ‘n warm ooste wind oor die see laat waai (Genesis 41:6).  Die water het soos mure opgestaan.  Die volk het op droë sand deurgetrek (Psalm 106:9).  God het die Egiptenare verhard, sodat hulle die Israeliete in die see in gevolg het.  Jesus het uit die wolk neergekyk en die Egiptenare verwar.  Hy het hulle strydwaens se wiele laat vasslaan en afval.  Die Egiptenare het besef dat die Here vir Israel veg en het probeer om te vlug (14:16-18, 21-25).  Moses het weer sy staf opgelig, sodat die watermassa oor die hele weermag gestort het en hulle lyke op die strand uitgespoel het (14:26-30).  God bewerk nie ‘n halwe redding nie.  Hy het sy volk volkome en finaal van Farao en die Egiptenare gered.  Die volk het in God geglo en Hom gevrees.  Hulle het ook geglo dat Moses sy kneg is (14:31, kontrasteer dit met 2:14, 4:16, 6:8).

 

Glo in God se krag wanneer jy deur beproewing gaan.  Wys dat jy regtig glo:  roep Hom aan (Psalm 50:15, 34:18, 107:6).  Moenie bid en dadelik weer angstig raak, sodat jy mense vir jou slegte omstandighede beskuldig nie (14:10-12).  Glo eerder dat God die moeilike situasie oor jou pad gebring het, omdat Hy sy Naam wil verheerlik en jou wil bevoordeel.  Vertrou dat God die onmoontlike kan doen (Matteus 19:26, Jeremia 32:17, 27, Lukas 1:37, Efesiërs 3:20).  ‘n Ryk Christen sakeman se besigheid het probleme opgetel.  Dinge het baie sleg gegaan.  Hy het ‘n predikant gebel en vir gebed gevra.  Hy, die predikant, en die Christen personeel het saam gevas oor die saak.  Toe hulle weer hoor het sy besigheid publisiteit gekry op CNN International!  Nou kon hy nie voorbly nie!  God het gedoen wat onmoontlik gelyk het.

 

As jy gebid het moet jy in geloof reageer en aksie neem (14:15).  Bring jou kant; ‘beweeg vorentoe’.  Moenie bang wees as jou vyand te sterk is of die situasie te groot lyk nie.  Die Here sal vir jou veg (14:13-14, Jesaja 41:10, 13-14, 2 Kronieke 20:15, 17).  En “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:32).  As jy nie glo dat die Here jou kan help nie, ontken jy sy goedheid, sterkte, en getrouheid.  Ongeloof is ‘n klap in sy gesig.

 

Jesus is lofwaardig (hfst.15)

Die afgelope naweek was ek by ‘n Paaskamp.  Onder die begeleiding van oom Louis Lourens was ons samesang uit die boonste rakke.  Die kampgangers het die dak gelig.

 

Hoekom is dit dat Christene gedurig saamsing?  Hoekom is Islam, Hinduïsme, Buddhisme, en ander wêreld-godsdienste nie singende godsdienste nie?  Ons sing omdat ons bly is; omdat ons gered is.  Ons sondes is vergewe, ons het ‘n plek in die hemel, ons is aangeneem as God se kinders, ons is geregverdig, ons is weergebore.  Watter ander godsdiens het ‘n boek soos die Psalms?

 

Moses en die volk het God geprys vir sy verlossing (15:1, Psalm 106:12).  Die vroue, onder leiding van Miriam, het op tamboeryne gespeel (15:19-21, 1 Samuel 18:6).  Saam met Moses en Israel moet ons die Here prys vir ons groot verlossing:

 

“En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê:  Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!” (Openbaring 15:3).

 

Saam met die volk moet ons die Here prys vir sy heerlikheid (15:1, 11), krag (15:1b-2, 4-6, 10), verlossing (15:2, Openbaring 5:9), toorn (15:3, 7b-8, Psalm 24:8, Openbaring 19:11, Hebreërs 12:29), heiligheid (15:11), goedheid (15:13), getrouheid (15:17), koningskap (15:18).  Laat al die nasies Hom vrees (15:14-16, Josua 2:9-10, 5:1, Deuteronomium 2:4, Numeri 22:3-4).

 

Prys Jesus vir sy redding.  Sing van sy redding, Woord, karakter, die hemel, die nagmaal, sy werk in die skepping, sy voorsiening, sy kerk, sy Gees.  Kies liede waarvan die woorde Bybelse diepte en ‘n gesonde inhoud het.  Dink oor wat jy sing.  Sing met jou hele hart.  Sing met gepaste emosie.  Sing met meer volume en sorg dat die gemeentesang bo die instrumente gehoor kan word.  Samesang moenie ‘n konsert word waarin die instrumente en voorsangers die gemeente uitdoof nie.  Laasgenoemde is veral ‘n geneigdheid in charismatiese kerke.  Moenie die Here vir sy redding loof, maar gou weer teen Hom kerm en kla nie (sien 1 Korintiërs 10:1-4, 5-13).  Lofprysing is ‘n gepaste reaksie vir dié wat deur God gered is:  “O Regverdiges, jubel in die HERE!  ‘n Loflied betaam die opregtes.” (Psalm 33:1).

 

Daar is ‘n politieke spotprent in die koerant waarin ‘n sekere karakter in elke prent verskyn.  Soms is die karakter agter ‘n bed, onder ‘n tak, op ‘n wolk, of langs ‘n emmer.  Maar hy is altyd daar.  Het jy agtergekom dat daar so ‘n Karakter in die Ou Testament is?  Hy is altyd daar:  in die verhale, lofliede, profesieë, spreuke, gelykenisse, geslagsregisters, tempelplanne, wette.  Wie is Hy?  Jesus:  die Een wat by die Rooisee was en honderde jare later aan ‘n kruis gehang het.  Hy is die Verlosser van Israel.  Is Hy jou Verlosser?

[1] Peter Hammond, The Family, faith and upbringing of David Livingstone,  The Reformation Society, p.5

[2] John Currid, Exodus: Evangelical Press Study Commentary, volume 1, p.307

[3] Ibid, p.281

Die tien plae: Pes, swere en hael

Sphinx

In Desember 1998 het ek en ‘n vriend vir twee weke in Vryheid gaan preek.  Op weeksdae het ons ‘n vakansie Bybelklub gehou vir kinders.  My vriend het vir die eienaar van die plaaslike SPAR gevra of ons dit daar kon hou.  Die man het gesê:  ‘Ek is ‘n Moslem en het ‘n groot elektrisiteitrekening.  Wat kan jou God vir my doen?’  My vriend het geantwoord:  ‘Kom saam met my.  Ek sal bid en vir jou wys wat my God kan doen.’  Die man het gou gesê:  ‘Toemaar, ek trek net jou been; ek is ook ‘n Christen.’  Die ware God is nie net ‘n teorie nie.  Hy is ‘n praktiese God wat werk.  Eksodus 9 wys dit.

 

Die vyfde plaag:  Pes (v.1-7)

Hoekom het die Voortrekkers die Kaap verlaat om binneland toe te trek?  In 1793 het die Xhosas 116 plase verwoes en die Afrikaners se beeste gesteel.  Wat het Dingaan van Piet Retief vereis voor hy sou instem om die dokument vir die oordrag van Natal te onderteken?  Retief moes Sikonyela aanval om die 700 beeste wat hy van Dingaan gesteel het, terug te bring.  Wat het Dingaan gedoen na hy Retief en sy geselskap vermoor het?  Hy het hulle families uitgemoor en 25 000 beeste gesteel.  Hoekom?  In hulle tyd en kultuur, soos in die Bybel s’n, was rykdom gemeet aan hoeveel vee jy het – nie aan hoeveel geld jy in die bank het nie (Genesis 30:25-42, Job 1:3, 42:12, Markus 5:11-13).  Vir ‘n hele land se vee om met siekte getref te word is ‘n reuse verlies.

 

Die lewende en ware God van Israel het weer vir Farao gesê om Israel te laat trek.  Indien hy nie wou luister nie, sou die Here Egipte hierdie keer nie net met sy vinger tref nie (8:19), maar met sy hand (v.3).  Hy sou nie dadelik al die vee tref nie, maar net dié wat buite in die veld was (v.3).  Dis hoekom daar in v.19, na die vyfde plaag, nog vee oor was.  Hierdie plaag was ‘n aanval op verskeie gode.  Apis was Egipte se heilige bul-god.  Mnevis was ook ‘n bul-god en die simbool van vrugbaarheid.  Hathor was ‘n koei-godin.  Isis was die koningin van die gode en het koeihorings op haar kop gehad.

 

Die Here sou nie die Israeliete se vee tref nie.  Hy wou wys dat Israel sy volk was, en het ook gesorg dat hulle vee het om in die woestyn te offer.  Die Here het gesê dat die plaag Egipte die volgende oggend sou tref (v.5).  Farao het ‘n dag gehad om tot sy gode te bid, sodat hulle die Here kon keer.  Hy sou weer agterkom dat Jahwe die ware God is.  Farao het iemand gestuur om te sien of die Israeliete se vee die plaag oorleef het.  Selfs nadat dit bevestig is, het hy sy hart verhard.

 

Die sesde plaag:  Swere (v.8-12)

Toe ek in die laerskool was het my pa ‘n groot pitsweer op sy heup gekry:  een met nege koppe (‘n nege-oog of karbonkel).  Dit was ‘n rou seer vol van geel etter.  Blykbaar was dit baie pynlik.  Dit kan met salf genees word.  In die ou dae het mense ‘n glasbottel vol kookwater gemaak en dit weer uitgegooi.  Terwyl die stoom nog uitkom, het hulle die bottel se opening teen die pitsweer gedruk.  Dit het die pitsweer met etter en al uitgesuig.  Kan jy jou indink hoe seer dit sal wees as jou hele liggaam met sulke swere oortrek is?

 

Moses moes hande vol van roet uit die bakoond skep en dit voor Farao in die lug gooi.  Farao moes die wonderwerk voor sy oë sien plaasvind, sodat hy kon weet dat die God van Israel dit gedoen het.  Israel was in Egipte soos yster in ‘n vuuroond (Deuteronomium 4:20).  Is dit nie ironies dat die Here dié plaag uit die vuuroond laat kom het nie?  ‘n Paar hande vol roet het ‘n fyn stof geword wat die land oordek het.  Deur ‘n wonderwerk het God gemaak dat dit in swere verander op mense en diere.  Die gode van towery en genesing –Hike, Imhotep, Sekhmet – kon hulle nie help nie.

 

Die swere was pynlik, ongeneeslik, en dodelik.  Die woord wat hier met swere vertaal word, word ook gebruik van Hiskia se swere.  As die Here hom nie genees het nie, sou hy gesterf het (2 Konings 20:7, 1).  Die woord word gebruik van Job se swere wat hy met ‘n potskerf gekrap het (Job 2:7-8).  Dit het hard geword en dan weer gebreek.  Daar was selfs wurms in die swere (Job 7:5).  Sy vel het swart geword en afgeval.  Die inflammasie het gemaak dat sy bene soos vuur brand (Job 30:30).  In Deuteronomium 28:27, 35, 60 gebruik Moses hierdie selfde woord vir swere.  Hy beskryf dit so:

 

“Die HERE sal jou swaar tref met swere van Egipte en met geswelle en skurfte en uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie… Die HERE sal jou tref met bose swere aan die knieë en aan die bene—waarvan jy nie gesond kan word nie—van jou voetsool tot jou skedel… en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was, sodat hulle jou aanklewe.”

 

Selfs die towenaars is getref en kon nie voor Moses staan nie.  God het Farao se hart verhard, sodat hy nogsteeds nie geluister het nie (vgl. Josua 11:20).

 

Die sewende plaag:  Hael (v.13-35)

Kort na sy bekering het Jonathan Edwards oor weerlig en donderweer geskryf:

 

‘And scarce anything, among all the works of nature, was so sweet to me as thunder and lighting; formerly nothing had been so terrible to me.  Before, I used to be uncommonly terrified with thunder, and to be struck with terror when I saw a thunder storm rising; but now, on the contrary, it rejoiced me.  I felt God, so to speak, at the first appearance of a thunder storm; and used to the take the opportunity, at such times, to fix myself in order to view the clouds, and see the lightnings play, and hear the majestic and awful voice of God’s thunder, which oftentimes was exceedingly entertaining, leading me to sweet contemplations of my great and glorious God.’[1]

 

Edwards het geweet wat alle Christene moet weet – iets wat met ‘n skok voor Farao se neus gehou is:  God beheer die natuur.

 

Moses moes vroegoggend vir Farao by die rivier kry en vir hom sê:  ‘Die Here sê jy moet sy volk vrylaat sodat hulle Hom kan aanbid.’  Voortaan sou God sy plae teen Farao se hart stuur [v.14, Heb. lêb] – ja, die eindste hart wat so verhard was.  So sou die Here wys dat Farao geen god is nie, maar dat Hý die ware God is.  As die Here wou, kon Hy lankal vir Farao en die Egiptenare uitgewis het.  Maar Hy was geduldig en het vir Farao opgewek, sodat Hy sy groot Naam, krag, en heerlikheid kon toon.  Dit moes bekend word dat dit Hy is wat konings oprig en weer neerwerp (Daniël 2:21).  “Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.” (Spreuke 16:4).

 

Die hael sou vroeg die volgende oggend val (v.18, 13).  Dit moet warm wees voordat hael kan vorm en val.  Die warm lug stoot die waterdruppels hoog op tot in die koue atmosfeer.  Daar vries die klein druppeltjie en val dit weer.  Dis nie swaar genoeg om deur die warm lug tot op die aarde te val nie.  Die warm lug stoot dit weer op.  As dit in die koue atmosfeer kom, dan vries daar nog ‘n lagie.  So hou dit aan, totdat dit groot en swaar genoeg is om tot op die aarde te val.  In die woestyn is die nagte koud.  As die natuurlike prosesse moes plaasvind, kon die hael nie vroeg in die oggend val nie.  Maar hierdie is ‘n wonderwerk.  God het die hael vroeg in die môre laat val.  Weereens het Hy gewys dat Hy die ware God is.  Volgens v.18, 24 was hierdie Egipte se ergste haelstorm vandat dit ‘n nasie geword het.  Egipte het eers na die vloed in Genesis 10:6, 20 ‘n nasie geword.  Die ergste storm voor dié een was die vloed.

 

God het ‘n finale waarskuwing gegee en hierdie keer barmhartigheid bewys:  “Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie binnekant gebring is nie—op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe.” (v.19).  Die Egiptenare wat God se woorde gevrees het, het gou opgetree en hulle vee ingebring (v.20).  Die res se vee en slawe is doodgeslaan (v.21).  “Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie, sal die gevolge dra; wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk.” (Spreuke 13:13, NAV).

 

God het donderweer, weerlig en hael gestuur en alles getref.  Wingerde, wildevy, en ander bome is deur die hael verwoes.  Nie net die hael nie, maar ook weerlig het skape en beeste doodgeslaan (Psalm 78:47-48, 105:32-33).  Die Israeliete in Gosen is nie getref nie; hulle het in rus en vrede gewoon (v.26, Jesaja 32:18).

 

Farao het vir Moses geroep:  ‘Hierdie keer het ek teen die Here gesondig.  Die Here is reg.  Ek en my volk is verkeerd.  Vra die Here om die donderweer en hael weg te vat – ek sal die volk laat gaan!’  Sien jy die implikasie van die woorde ‘dié keer’?  Hy sê eintlik dat hy nie die vorige kere verkeerd was en gesondig het nie.  Hy is nie regtig jammer oor sy sonde nie, maar hou net nie van die aaklige gevolge nie.

 

Moses het gesê dat hy vir die Here sou vra om die hael te stop nadat hy uit die stad uit was.  So sou Farao sien dat die hael nie vir Moses tref nie, en dat die aarde aan die Here behoort (vgl. Josua 10:11, Psalm 24:1).  Moses het geweet dat Farao nie die Here gevrees het nie; dat hy ‘n leë belofte gemaak het en nie die volk sou vrylaat nie.  Hulle ongehoorsaamheid in v.21 het bewys dat hulle nie die Here gevrees het nie.

 

Die hael het die vlas en gars weggeslaan.  Die Egiptenare het vlas gebruik om hulle wêreld bekende Egiptiese linne te maak.  Die ekonomie was in sy kanon in.  Die koring en spelt het nog nie opgekom nie en was veilig.  Maar ook dít sou binnekort deur die sprinkane vernietig word.  Die Egiptiese godin Nut het die hemelruim voorgestel.  Shu het die hemel in plek gehou, en Tefnut was die godin van vog in die atmosfeer.  Hulle was veronderstel om die weer te beheer, maar kon nie teen die Here staan nie.  Geb was die god van landbou en Seth die god van oeste.  Hulle kon nie Jahwe se hand van oordeel keer of terugdraai nie.

 

Toe God die hael gestop het, het Farao sy hart verhard en sy belofte gebreek – net soos die Here gesê het.

 

Wat is die groot les wat ons uit hierdie drie plae leer?  God is soewerein oor pes, siekte, en die weer.  Na 2004 se tsunami het ek in ‘n preek gesê dat God soewerein is.  Iemand wat die preek gehoor het, het gesê:  ‘Om te sê dat God die tsunami gestuur het, is Godslastering.’  Die Bybel sê egter dat God hierdie dinge beheer.  Verse wat wys Hy is soewerein oor siekte is die volgende:

 

  • “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?” (4:11).
  • “Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie… Ook het al sy broers en al sy susters en al sy bekendes van vroeër na hom gekom… en hulle het met hom medelyde gehad en hom vertroos oor al die onheil wat die HERE oor hom gebring het.” (Job 2:10, 42:11). Job het swere gehad. Let op dat Job nie gesondig het deur te sê dat God die slegte dinge oor hom gestuur het nie.
  • “En toe die wolk van die tent af weggetrek het, kyk, toe was Mirjam melaats, soos sneeu. En Aäron het Mirjam aangekyk en—sy was melaats!” (Numeri 12:10). God het vir Miriam gestraf omdat sy vir Moses teëgegaan het.
  • “Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.” (Deuteronomium 32:39).
  • “Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?” (Klaagliedere 3:38).
  • Jesaja 45:7 praat van God wat “die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.”
  • “Maar die hand van die HERE was swaar op die Asdodiete, en Hy het hulle verskrik en hulle getref met geswelle, Asdod en sy grondgebied… Hy het die mense van die stad getref, van die kleinste tot die grootste, sodat geswelle aan hulle uitgebreek het.” (1 Samuel 5:6, 9).
  • “En die HERE het die kind wat die vrou van Uría vir Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het.” (2 Samuel 12:15).
  • “En die HERE het ‘n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentig duisend man gesterwe.” (2 Samuel 24:15).
  • “[as] Ek die plaag van melaatsheid in ‘n huis van die land van julle besitting laat kom” (Levitikus 14:34).
  • “Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (Johannes 5:14). Die implikasie is dat God die man weer kon laat siek word.
  • “Daarom sal die melaatsheid van Naäman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe. En hy het van hom uitgegaan melaats, soos sneeu.” (2 Konings 5:27).
  • “En die HERE het die koning aangetas, sodat hy melaats was tot die dag van sy dood toe” (2 Konings 15:5).
  • “En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.” (Handelinge 12:23).
  • “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.” (1 Korintiërs 11:30). God het die Korintiërs getref omdat hulle die nagmaal misbruik het.
  • “Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.” (Openbaring 2:22-23).
  • “En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.” (Openbaring 6:8). Die teks sê dat die perd en sy ruiter mag ontvang het om die pes te bring. Wie het aan hulle die mag gegee? God (vgl. Job 2:6).
  • “Toe gaan die eerste een [engel] weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.” (Openbaring 16:2).

 

God is ook soewerein oor die weer:

 

  • God het die vloed gestuur (Genesis 6-9). Psalm 29:10 sê: “Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid.”
  • “Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller… Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns… Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte. Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk; en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond: óf tot ‘n tugroede, óf tot nut van sy aarde, óf tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind.” (Job 36:32, 37:6, 10-13).
  • “Maar die HERE het ‘n sterk wind op die see gewerp, en toe daar ‘n groot storm op die see ontstaan, het die skip gevaar geloop om skipbreuk te ly… En met sonop het God ‘n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op die hoof van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag sterwe, en gesê: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.” (Jona 1:4, 4:8).
  • “Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring” (Psalm 148:8).
  • “Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as. Hy werp sy ys heen soos stukke—wie kan bestaan voor sy koue? Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai—die waters loop.” (Psalm 147:16-18).
  • “En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ‘n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” (Openbaring 16:17-21).
  • “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing” (Openbaring 6:12).
  • “Die HERE sal maak dat die pes jou aankleef totdat Hy jou vernietig uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. Die HERE sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy omkom. En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees. Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.” (Deuteronomium 28:21-24).
  • “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie” (Job 1:21-22). Weerlig het Job se skape getref en ‘n stormwind het die huis omgewaai waarin sy kinders gesterf het. Job het nie gesondig deur te bely dat die Here dit gedoen het nie.

 

Moenie praat en vrees asof die natuur soewerein is nie.  Moenie van siekte en rampe sê dat die duiwel gekom het om te steel nie.  Dit is wel so dat God die duiwel soms toelaat om siekte en rampe te bring (Job 1:12, 2:6, Matteus 17:18, Lukas 13:16).  Maar die tekste wat ek hierbo gelys het wys dat God nogsteeds in beheer is van hierdie dinge.  Vir die gelowige sal God siekte en rampe ten goede laat meewerk (Romeine 8:28).  Net die ware God kan dit doen.

 

Wanneer God siekte en rampe oor ongelowiges stuur is Hy geduldig en gee aan hulle ‘n kans om hulle te bekeer (v.20, Romeine 2:4, 2 Petrus 3:9).  As hulle dit nie doen nie, dan sal hulle sterf (v.21).

 

Hoe is God anders as die gode van Egipte as Hy nie soewerein is nie.  As jy bely om ‘n Christen te wees en God se soewereiniteit ontken, dan aanbid jy ‘n afgod.  Die God van die Bybel is soewerein (Psalm 103:19).  As jy sê Satan beheer siekte en rampe, sal jy in vrees lewe.  In teorie glo jy dalk nie dat die duiwel soewerein is nie, maar in praktyk lewe jy asof die duiwel en gode van Egipte so sterk soos die Here is.  Watse troos kan jy hê as jy siek word?

 

Voor 1838 het sendelinge vir 18 jaar geen sukses onder die Zulus gehad nie.  By die slag van Bloedrivier het 464 Voortrekkers 15 000 van die gevreesde en onoorwonne Zulu Impi gedood.  Na dié slag het honderde duisende Zulus tot bekering gekom.  Hoekom?  Hulle het gesien dat hulle gode, toordokters, diktators, en voorvader geeste geen mag gehad het teen die God van die Voortrekkers.  Hulle het besef dat Hy die ware God is.[2]

[1] Iain Murray, Jonathan Edwards: A New Biography, pp.36-37

[2] Peter Hammond, The Day of the Covenant – ‘n praatjie gelewer by die Reformation Society.

Perspektief in beproewing

Kitten next to lion

Ek was beïndruk toe ek ‘n prent sien van hoe klein die aarde teen die son is.  Die son is massief… totdat jy dit langs die grootste sterre sien.  Skielik is die son nie eers ‘n spikkel nie.  So is dit met beproewing.  Jou probleme is groot en verwarrend… totdat jy dit langs God sien.  Skielik is dit gering.  Dis wat God vir ons wil leer in Eksodus 4:18-6:8.

 

God se dissipline (4:18-31)

Toe my hond jonger was het hy gereeld die swartsakke geskeur en die rommel op die grasperk gestrooi.  As ek in die oggend na die rommel toe gestap het, het hy stert-tussen-die-bene weggesluip.  Hy het geweet dat hy gestraf gaan word.  Is dit nie so in ons verhouding met God nie?  Het dit al ooit met jou gebeur, dat wanneer dinge in jou lewe skeefloop, jy dadelik besef dat God jou dissiplineer – jy weet presies wat jy verkeerd gedoen het?  So was dit met Moses in Eksodus 4.

 

Moses was vir 40 jaar by Jetro in Midian (Handelinge 7:30).  Nou wou hy weer Egipte toe gaan om te sien of sy broers nog lewe.  Sy skoonpa het hom in vrede laat gaan (vgl. Gen.24:54).  Vir ‘n oomblik het Moses gehuiwer.  God het hom verseker dat hy veilig was:  “Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.” (v.19, vgl. 2:15, 23, Matteus 2:20).  Moses het die staf saamgevat waarmee God die wondertekens sou doen (v.20-21, 17).

 

God het vooraf vir Moses gesê dat Hy Farao se hart sou verhard, sodat hy die volk nie sou laat trek nie.  ‘Was God nie onregverdig en verantwoordelik vir Farao se sonde toe Hy sy hart verhard het nie?’ vra iemand.  Nee.  Farao en die hele Egipte het hom as ‘n god beskou.  Hy was dus reeds in rebellie teen God.  Toe God Farao se hart verhard het, was dit nie teen sy eie wil nie.  Hy wóú homself teen die Here verset.  God het dus vir hom gegee wat hy wou gehad het.  Farao was soos klei in die son.  Die klei word hard, omdat daar iets in die klei is wat dit so maak.  ‘n Blok ys sou smelt as jy dit in die son sit.  Die klei sal hard word as jy dit in ‘n donker vertrek los.  Die son laat dit net vinniger gebeur.  So was dit met Farao se hart.  God het hom nie sleg gemaak nie.  Die sonde was reeds in sy eie hart.  God het hom net oorgegee aan dit wat alreeds in hom was.  Daarom kan hfst.7-14 sê dat Farao sy eie hart verhard het, dat God dit verhard het, of dat dit verhard geraak het (7:3, 13-14, 22, 8:15, 19, 32, 9:7, 12, 34-35, 10:1, 20, 27, 11:10, 14:4, 8).  God is barmhartig oor wie Hy wil wees en verhard wie Hy wil (Romeine 9:18, Johannes 12:40).

 

Die Egiptenare het geglo dat Farao se hart die geskiedenis en die samelewing beheer het.  Hulle het ook geglo dat die gode, Ra en Horus, se harte soewerein was oor alles.  Volgens hulle was Farao die inkarnasie van dié twee gode; dus was sy hart soewerein oor die skepping.  Deur die verharding van Farao se hart, wys God dat Hý die heelal en die geskiedenis beheer, en dat Hy sterker is as die gode van Egipte.[1]

 

As gevolg van die verharding van sy hart, sou Farao nie vir Moses luister nie (v.21).  Daarom moes Moses sê:  ‘Israel is my eersgebore seun.  Laat hom dan nou gaan.  As eersgeborene sal hy die Beloofde Land as erfdeel verkry.  As jy hom nie vrylaat nie sal Ek jóú eersgebore seun, die opvolger tot die troon, doodmaak (vgl. v.22-23, 12:29).

 

Oppad Egipte toe wou die Here hom doodmaak.  Wie is die ‘hom’?  Is dit Moses of sy seun?  Hoekom wou die Here hom doodmaak?  Moses kon nie die volk lei as hy self ongehoorsaam was aan God se verbond nie.  Reeds in Genesis 17:10, 14 het God gesê:  “Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou:  Al wat manlik onder julle is, moet besny word… En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word:  hy het my verbond verbreek.”  Het Moses of sy seun dalk dodelik siek geraak?  Ons weet nie.  Moses se vrou het ingetree en haar seun besny.  Sy het die bebloede voorhuid aan sy voete laat raak.  Toe sy dit doen het die Here hom gelos.  Daarom het sy hom ‘n bruidegom van bloed genoem.  Moontlik het sy vrou en kinders na dié insident vir ‘n tydjie teruggegaan het Midian toe (vgl. 18:2-3).

 

Toe Aäron vir Moses sien, was hy bly.  Moses en sy broer het die ouderlinge van die volk bymekaar geroep en al die Here se woorde en tekens aan hulle voorgehou (v.27-30, vgl. v.14-16, 3:16).  “En die volk het geglo.  En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.” (v.31).

 

Tutig die Here jou vir ‘n spesifieke sonde?  Los dan daardie sonde.  Moenie dink dat jou sonde klein is nie, maar sien dat die Here dit haat, dat dit ernstig is vir Hom.  As jy dit nie so beskou nie, sal jy nie gemotiveer wees om jou te bekeer nie.  Moenie met die Here maak soos motoriste met verkeersbeamptes maak nie.  As hulle oortree en die verkeersbeampte vir hulle ‘n boete skryf, dan is hulle kwaad vir hom en nie vir hulleself nie.  Moenie kwaad wees as die Here jou tugtig nie.  Wees kwaad vir jouself omdat jy sonde doen.  Moenie sê:  ‘Dit kan nie die Here wees wat my tugtig nie.  Die God wat ék dien sal my nie só tugtig nie.’  As jy só dink sal jy nooit die konneksie tussen God se dissipline en jou sonde sien nie.  Dit sal maak dat jy nalaat om jou te bekeer.  Raak ontslae van die afgod wat jy vir jouself gemaak het.  Hou op om vir jou ‘n god te maak waarmee jy gemaklik is.  Vrees die ware God en bekeer jou van jou sonde.  Eers as jy dít doen, sal God sy swaar hand van tugtiging wegvat (4:26).

 

God se soewereiniteit (5:1-21)

Drie-jarige Sally hou van trollies wat ‘n klein stuurwieletjie vir kinders in het.  Sy dink dat sý die trollie beheer, maar weet nie dat haar má eintlik die trollie bestuur nie.  Farao was soos Sally:  hy’t gedink hý beheer Egipte en Israel, maar min het hy geweet dat dit Gód is wat alles beheer.  God sou Farao se rebelsheid vir Israel se voordeel en sy eie eer gebruik.

 

God het deur Moses en Aäron vir Farao gesê dat Israel sý volk was, en dat hy hulle moes vrylaat om Hom in die woestyn te aanbid.  Farao het geglo dat hy ‘n god was.  ‘Wie is die Here – ek ken Hom nie?’ het hy gesê (2 Konings 18:35, Job 21:15).  Sy onkunde oor God het gemaak dat hy ongehoorsaam was.  God wou hê Israel moes offers in die woestyn bring.  Dié offers sou keer dat God hulle met plae of met die swaard tref.  Die Israeliete was immers sondaars en het vergifnis nodig gehad.  Farao het die Here ontken en gesê dat Moses en Aäron eintlik net die volk van hulle slawe-arbeid wou wegvat.  ‘Julle is lui,’ het hy gesê.  Hy het die werkslading verdubbel om so te wys dat Israel sý slawe was; dat hulle nie aan die Here behoort het nie.  Die volk moes nou nie net meer stene maak nie.  Hulle moes ook hooi versamel dieselfde hoeveelheid stene maak.

 

Die volk het uitmekaar gespat om hooi te soek, maar hulle kon net stoppels kry.  Hulle sou nooit die dag se teiken kon bereik nie.  Farao se slawedrywers het die Israelitiese voormanne geslaan.  Die voormanne het na Farao toe gekom en gekla:  “Waarom maak u so met u dienaars?” (5:15).  Moes hulle nie eerder by die Here gekla het nie?  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die HERE.” (Spreuke 29:26).  Farao was min gepla en gesê dat hulle lui is en harder moet werk.

 

Dit is omdat Farao nie die Here geken het nie, dat hy ‘n diktator was.  Die bekende Briste ateïs, Richard Dawkins, reageer só op hierdie tipe stelling.  Hy sê dat beide Hitler en Stalin snorre gehad het.  ‘Kan ons sê dat beide mans wreed was omdat hulle snorre gehad het?  Nee.  Net so kan ons nie sê dat beide van hulle wreed was, omdat hulle ateïste was nie.’  Om so te redeneer is onsin.  Snorre bepaal nie moraliteit nie, maar wat jy glo doen wel.  Die feit dat Hitler, Stalin, Farao, en talle ander ateïstiese leiers wreed was, kan teruggelei word na die feit dat hulle die Here ontken het.  As hulle ontken dat daar ‘n God in die hemel is, is dit omdat húlle God wil wees.

 

Toe die voormanne klaar by Farao gekla het, het hulle vir Moses en Aäron gesê:  “Mag die HERE op julle let en oordeel, omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy dienaars, sodat julle ‘n swaard in hulle hand gegee het om ons om te bring.” (5:21).  So het die Israeliete gedurig teen Moses gekla (14:11, 15:24, 16:2, 17:3).

 

Kry God se perspektief in jou beproewing.  Onthou dat Hy soewerein is oor wat met jou gebeur.  Hy werk alles volgens die Raad van sy wil (Efesiërs 1:11).  Selfs die slegte dinge wat oor ons pad kom het Hý bepaal (Klaagliedere 3:37-38).  God bepaal ons siekte (Deuteronomium 32:29), finansiële probleme (1 Samuel 2:7), mense wat die lewe vir ons moeilik maak (2 Korintiërs 12:7), ons vyande (Rigters 3:1-2), gesinsprobleme (Genesis 50:20), onvrugbaarheid (1 Samuel 1:5), of jy enkel of getroud is (1 Korintiërs 7:7), mense wat jou vervolg omdat jy ‘n Christen is (1 Petrus 4:19), gebrek in jou liggaam (4:11), ‘n slegte leier – soos Farao of Jacob Zuma – wat oor jou regeer (9:16, Romeine 13:1, Spreuke 21:1).  In jou beproewing moet jy nie teen die Here rebelleer nie.  Onderwerp jou aan Hom en glo dat Hy alles vir die goeie sal uitwerk (Romeine 8:28).  Maak ook seker dat jou swaarkry nie God se dissipline oor jou sonde is nie.  As jy nie hierdie perspektief het nie, sal jy hopeloos raak en kwaad wees in jou beproewing (5:21).

 

God se verbond (5:22-6:8)

‘n Paar weke gelde het mense by ons gekuier en dié storie vertel.  ‘n Vrou wat hulle ken se kind het baie ernstig siek geraak.  Die man kon dit nie hanteer nie en het van sy vrou geskei.  Dit het nie saakgemaak dat hy voor die kansel gesê het:  ‘In siekte en gesondheid, tot die dood ons skei’ nie.  Die beproewing was vir hom te swaar.  Daarom het hy sy huweliksbeloftes geminag.  God sal dit nooit doen nie.  Wanneer beproewing kom sal Hy ons nie verlaat nie.  Hy sal getrou wees aan sy verbond.

 

Moses het tot die Here geroep en Hom vir Farao se sonde beskuldig:  “Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen?  Waarom het U my tog gestuur?  Want vandat ek na Farao gegaan het om in u Naam te spreek, het hy hierdie volk mishandel, en U het u volk glad nie verlos nie.” (5:22-23, vgl. Numeri 11:11, Jeremia 4:10).  God het belowe dat Hy vir Farao sou oordeel, sodat hy Israel uit Egipte sou uitdryf.  Wie is hierdie God?  Hy is die Here, EK IS wat EK IS (6:1, 3:14-15).  Dié Naam Here impliseer dat Hy soewerein is.  EK IS wys dat Hy ewig, onveranderlik, en onafhanklik is.  Hy is die Almagtige (6:2, Genesis 17:1, 35:11).  Hy is die waaragtige en getroue God wat sy verbond hou (6:3-4).  Hy is die God wat Hom oor sy kinders ontferm en hulle gebede hoor (6:4).  Hy weet alles (6:4).  Hy is kragtig en regverdig; die Verlosser van sy volk en die Regter van hulle vyande – Hy sal sy vyande oordeel om sy volk te verlos (6:5, hfst.7-12, Genesis 15:14, Deuteronomium 4:34).  God se arm is sterk van daad.  In die Nuwe Testament is Jesus die arm van die Here (Jesaja 53:1).  Om ons te verlos het God Hóm geoordeel (Matteus 27:46).

 

Wanneer God sy volk verlos, sal hulle sy volk en Hy hulle God wees (6:6).  Die gode van Egipte sou nie meer hulle gode wees nie (Esegiël 20:7), maar die Here sou hulle God wees.  So het God sy verbond aan Abraham vervul (Genesis 17:7).  In die Nuwe Testament is Christene God se volk (1 Petrus 2:9, Titus 2:14, Openbaring 21:7, Hebreërs 8:10).  Israel sou die Beloofde Land as erfdeel verkry (6:7).  Die verbond met Abraham sou finaal vervul word (Genesis 15:18).

 

Hou vas aan God se verbond.  Jy moet verstaan dat geen beproewing jou van Hom kan skei nie (Romeine 8:38-39).  Moet dan nie in jou beproewing God se liefde vir jou betwyfel, of dink dat Hy van jou vergeet het of jou sal wegwerp nie.  Draai na Hom toe en nie na mense toe nie (5:22-23, 15).  Stort jou hart uit voor die Here (Psalm 62:9).  Herinner Hom aan sy beloftes (Jesaja 62:6-7).  Sê vir jouself dat die God wat beloftes maak nie ‘n mens is wat kan lieg nie.  Hy is getrou; die Almagtige.  Hy het die verbond met sy eie bloed verseël en kan dit nie breek nie.  As Hy sy Seun gegee het, sal Hy ook alles gee wat jy nodig het om die beproewing te deurstaan (Romeine 8:32).  Sy verbond alleen is vas en seker.  Jy kan op niks anders vertrou nie.  God stuur dikwels beproewings om vir ons dit te leer.  “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.  Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek” (2 Korintiërs 1:8-9).

 

Arthur Pink het in 1922 ‘n tydskrif uitgebring, en dit vir 31 jaar volgehou.  Vir meer as 20 jaar het hy gebid dat daar meer lesers sal wees.  Sy gebed vir nuwe drukkers, finansies, en baie ander dinge is beantwoord.  Maar dié gebed is nie beantwoord nie.  Hy het nie verstaan hoekom nie.  Toe hoor hy dat meer as ‘n honderd predikante die tydskrif lees en die waarhede daarin vir hulle mense leer.  In Augustus 1947 kon Pink skryf:  ‘through the mouths of many ministers the substance of our articles is reaching thousands of people who do not read them.’[2]  Dalk sien jy nie dadelik wat die Here in jou beproewing doen nie.  Nogstans moet jy Hom vertrou en weet dat Hy sal doen wat wys is.

[1] John Currid, A Study Commentary on Exodus: Volume 1, Evangelical Press, DARLINGTON, 2000, pp.113-114

[2] Iain Murray, The Life of Arthur W. Pink, p.210

Bakens van bemoediging

Lighthouse in storm

Vir ‘n skip wat in die nag in ‘n storm beland, is die sig van ‘n lighuis ‘n baie groot bemoediging.  Om ons te help om die storms van beproewing te oorleef, het God bakens van bemoediging op ons weg gesit.  In Handelinge 28:1-16 kry ons ten minste sewe.

 

Gasvryheid (v.1-2)

William Cowper het met depressie gesukkel.  As ‘n hulp het John Newton vir Cowper in sy huis ingeneem.  Richard Cecil het oor Newton se huis gesê:  ‘His house was an asylum for the perplexed or afflicted.’[1]  In Amerika het David Brainerd met depressie gesukkel.  Jonathan Edwards het die jong sendeling in sy huis ingeneem.[2]  God het die gasvryheid van inboorlinge gebruik om vir Paulus te bemoedig.

 

Nadat almal die storm en skipbreuk oorleef het, het hulle op die eiland Malta gekom (v.1, 27:44).[3]  Die Grieks vir inboorlinge (v.2) is letterlik ‘barbare’.  Maar in Paulus se tyd was barbare nie mense wat kaal rondgeloop, en rou vleis met hulle hande geëet het nie.  Vir die Grieke het almal wat ‘n ander taal gepraat het, só geklink:  ‘Bar-bar-bar-bar-bar.’  Daarom het die Grieke hulle barbare genoem (Romeine 1:14).  Omdat Malta in die winter reën gekry het, het die inboorlinge vir Paulus-hulle ‘n vuur gemaak.  Ek is seker dat enige matroos wat koud en nat was, ‘n groot vuur sou verwelkom.

 

As ongelowiges so gasvry kan wees, hoeveel te meer moet gelowiges dit nie wees nie?  Betoon veral gasvryheid aan Christene wat swaarkry.  Hulle het dit nodig.  Soek geleenthede om gasvry te wees – ook met Christene wat jy nie ken nie (Romeine 12:13, Hebreërs 13:2).  Ondersoek jou hart en sorg dat jy die regte gesindheid het.  Moenie sê:  ‘Ek wil nie hê hulle moet my huis omkrap nie… Ek is nie lus om na iemand se probleme te luister nie.’  1 Petrus 4:9 sê:  “Wees gasvry [teenoor] mekaar sonder om te murmureer.”  Maak jou huis ‘n hospitaal vir seer gelowiges se siele.  Onthou wat Jesus gesê het:  “vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Matteus 25:40).

 

Beskerming (v.3-6)

Op 16 Februarie 1844 het David Livingstone gehoor dat ‘n leeu ‘n paar skape gevang het.  Hy het sy geweer gelaai en die leeu gaan soek.  Toe hy die leeu gekry het, het hy twee skote afgevuur.  Die gewonde leeu het hom bestorm en hom aan die skouer gegryp.  Mebalwe, een van sy helpers, het na die leeu geskiet.  Die leeu het vir Livingstone gelos en Mebalwe aan die been gegryp.  Nóg ‘n man het probeer om te help.  Meteens het die leeu het inmekaar gesak van die skote wat Livingstone vroeër afgevuur het.  Livingstone het die aanval oorleef.[4]

 

Paulus het hout aangedra vir die vuur.  ‘n Adder het uitgekom en hom aan die hand gebyt.  Toe die inboorlinge dit sien het hulle gesê dat hy ‘n moordenaar was.  Hulle het gesê:  ‘Hy het wel die skipbreuk oorleef, maar ons godin Dikē (‘Justice’) het gesorg dat geregtigheid geskied; dáárom het ‘n giftige slang hom gebyt.’  Hulle het soos Job se vriende geredeneer:  “Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg?” (Job 4:7).  Jesus se dissipels het ook gedink dat lyding ‘n teken van God se straf is.  Toe hulle verby ‘n man loop wat blind gebore is, het hulle gevra:  “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?” (Johannes 9:2).  In Lukas 13:4 het Jesus gesê:  “Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?”

 

Die slangbyt was nie God se straf nie.  God het gewys dat Hy sterker as die gode van Malta is.  Die inboorlinge het gewag dat Paulus sou opswel of dood neerslaan, maar hy het niks oorgekom nie.  Jesus het immers vir die apostels gesê:  “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie… slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie” (Lukas 10:19, Markus 16:18).  Die Maltese het nou ‘n ander deuntjie gesing.  ‘Hy is ‘n god,’ het hulle gesê (v.6, 14:11, 19).

 

As jy bemoedig wil word deur God se beskerming, moet jy verstaan wat met beskerming bedoel word.  Dit beteken nie dat jy nooit pyn sal ly nie.  Die slang byt het nie vir Paulus doodgemaak nie, maar tog het die slang hom gebyt.  Die skrywer se punt is eerder om te wys dat gelowiges geen uiteindelike skade sal ly nie.  Moslems kan jou kop afkap.  Maar hulle kan nie jou siel beskadig nie (Matteus 10:28).  Geen lyding kan jou van God se liefde skei nie; Hy sal alles vir jou voordeel laat uitwerk (Romeine 8:38-39, 28).  Iemand wat ‘n verkeerde verstaan van God se beskerming het, sal in ‘n depressie beland.  As rowers hulle aanval maar nie doodmaak nie, sal hulle nie dankbaar wees dat die Here hulle beskerm het nie; hulle sal kla dat hulle aangeval is.

 

Diensbaarheid (v.7-9)

Martin Holdt het gesê dat evangelisasie hom opgebeur het as hy moedeloos was.  Ek het ‘n paar keer sy raad gevolg en gesien dat dit werk.  Toe ek later ‘n beradingskursus gedoen het, het ek uitgevind hoekom.  ‘n Depressiewe mens fokus op homself en sy probleme.  Iemand wat ander dien fokus op God en sy naaste.  Sodra jy nie meer op jouself en jou probleem fokus nie, dan voel jy beter.  Een van Clyde Kilby se voornemens was:  ‘I shall stop boring into myself to discover what psychological or social categories I might belong to.  Mostly I shall simply forget about myself and do my work.’[5]

 

Malta was ‘n klein eiland naby die groter eiland van Sicilië.  Omdat Publius se naam ‘eerste’ beteken, lei ons af dat hy onder die goewerneur van Sicilië was.  Volgens oorlewering het hy tot bekering gekom, en later die biskop van Malta en toe van Atene geword.[6]  Publius was baie gaaf met Paulus.  Publius se pa was siek met buikloop of disentrie.  Dié siekte kry mens deur ‘n organisme in bokmelk.  Die siekte duur gemiddeld vir 4 maande, maar kan solank as 3 jaar aanhou.  Die simptome is koors en maagwerkings met bloed.  Dit is moontlik dat koning Joram in 2 Kronieke 21:19 hieraan dood is:  “teen die einde van die tweede jaar, het sy ingewande by sy siekte uitgekom, sodat hy onder hewige pyne gesterf het”.  Paulus het vir Publius se pa gebid en hom genees.  Die res van die eiland se inwoners het hulle siekes gebring om genees te word.  Lukas gebruik twee verskillende Griekse woorde vir genesing.  Beteken dit dalk dat nét Publius se pa deur ‘n wonderwerk genees is, en dat die res deur Lukas se medisyne genees is?  Dit mag wees, want genesing in v.9 is dieselfde Griekse woord as in Lukas 4:23:  “Geneesheer, genees uself!”  Genesing in dié vers word gekoppel aan ‘n mediese dokter.  Lukas self was ‘n mediese dokter, en daarom is dit moontlik dat hy die mense met medisyne genees het (Kolossense 4:14).  Tog word die woord in v.9 ook in Lukas 6:18 gebruik:  “[mense] het gekom… om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees.”  Ons weet dat Jesus nie met medisyne genees het nie; sy genesings was bonatuurlik.  Dus sou dit ook nie verkeerd wees om te sê dat al die siekes op Malta bonatuurlik genees is nie.

 

Wat moet jy doen as jy swaarkry?  Moenie jouself bejammer nie, maar dien jou naaste.  Soek en bid vir geleenthede om te dien.  Moenie wag tot jy lus voel om ander te dien nie.  Begin net; die Here sal jou verder lei.  Jy sal gou agterkom dat die Here jóú bemoedig en verfris wanneer jy ander dien.

 

Voorsiening (v.10)

‘n Wildvreemde vrou het een weeksdag by die kerk opgedaag.  Sy het vir my ‘n koevert persent gegee met R1000 in.  ‘n Paar ure voor dit het ek gebid vir R1000 wat ek nodig gehad het.  Soms bemoedig die Here ons so.  Hy weet wat ons nodig het.  Die skip en haar vrag was daarmee heen.  God het deur die inboorlinge gesorg dat die vrag vervang word (v.10).

 

Moenie die Here se voorsiening betwyfel nie.  Moenie twyfel dat die Here selfs ongelowiges kan gebruik om sy kinders te seën nie (Spreuke 13:22).  Moenie dink dat jóú behoefte te groot is, en dat die Here nie daarin kan voorsien nie (Numeri 11:23).  Dit is onnodig dat jy angstig is (Matteus 6:25-34). Vertrou die Here.  As jy twyfel sê jy in effek dat God nie goed of almagtig is nie:  ‘Hy wil nie help nie… Hy kan nie help nie.’  Hoekom moet die Here jou help as jy só twyfel (Jakobus 1:6-7)?

 

Guns (v.11-13)

Simon die stoomtrein hyg as hy 20 swaar karretjies teen die heuwel uitsleep.  Wanneer hy afdraende ry kan hy ontspan, want die gewig van die karre stoot hom teen die heuwel af.  In hfst.27 het Paulus-hulle se skip die wind van voor gehad.  Nou het God ‘n suidewind gestuur.  Hulle het met gemak teen die weskus van Italië opgeseil.  Wanneer ons beproef word stuur God soms die wind van agter, sodat ons asem kan skep.

 

Na 3 maande op Malta het Paulus op ‘n graanskip geklim wat van Alexandrië af kom.  Castor en Pollux was op die skip se boegbeeld (‘figurehead’).  Griekse mitologie het hulle as semi-gode beskou.  Hulle was ‘n tweeling, die seuns van die oppergod Jupiter en Leda, die vrou van Tyndarus, die koning van Sparta.  Die Grieke het geglo dat hulle by hulle dood die sterrekonstellasie Gemini geword het.  Hulle het matrose gelei en beskerm.  Van Malta af is Paulus-hulle Sirakuse, aan die kus van Sicilië toe.  Vandaar het hulle gevaar na Rhegium aan die punt van Italië.  Toe hulle Puteoli toe vaar het hulle die suidewind van agter gekry.

 

Neem kennis van God se guns in beproewing.  Bid dat God jou oë sal open om dit te sien.  Jy kan selfs ‘n joernaal hou en dié bakens van guns neerskryf.  Op die manier sal jy nie dink dat ‘n moeilike beproewing ‘n teken is dat God jou haat nie.  Sy guns sal jou daaraan herinner dat Hy jou liefhet.  Hierdie klein tekens van guns sal jou ook help om nie te vergroot, sodat jy sê:  ‘Niks loop reg nie, alles loop verkeerd’ nie.

 

Gemeenskap (v.14a)

Toe ons onlangs in Port Edward was het ‘n predikant en sy vrou ons genooi vir ete.  Alhoewel ons hulle glad nie geken het nie, het hulle ons so welkom laat voel.  Is dit nie hoe Paulus moes gevoel het toe hy vir ‘n week by vreemde Christene gebly het nie (v.14a)?

 

Onthou dat jy ander gelowiges deur geestelike gemeenskap kan bemoedig.  Om dit reg te doen moet jy eers mooi verstaan wat gemeenskap is.  Die woord koinonia beteken om in iets in gemeen te hê, om iets te deel.  Ons kan ons kos en geld met ander deel.  As ons sendelinge ondersteun het ons geld in gemeen.  As iemand swaarkry en ons hulle daardeur help, deel ons dieselfde lyding.  As ons aan die nagmaal tafel sit dan deel ons dieselfde brood en wyn.  Om saam te bid en Bybel te lees is om gemeenskap te hê.

 

As ons Christene wil bemoedig moet ons gemeenskap belangrik ag en onsself daaraan toewy (2:42).  Hoe sal jy bemoedig word as jy gemeenskap mis; as jy gereeld op Sondae by die huis bly of net op die TV en radio kerk luister?  Is dit nie as ons Christelike gemeenskap het wat ons bemoedig word nie?  “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:24-25).  Mag ek ook vra dat jy asseblief moeite sal doen om besoekers in die gemeente welkom te laat voel?  Dis aaklig as jy in ‘n vreemde kerk kom en niemand verwelkom jou nie.

 

Hoekom is gemeenskap so belangrik?  In Genesis 2:18 het God gesê dis nie goed dat die mens alleen is nie.  Party keer hoef iemand nie iets te sê om jou te bemoedig nie.  Bloot die feit dat jy hulle by die kerk sien en saam met hulle is, is reeds ‘n bemoediging.

 

Beloftes (v.14b-16)

In 2012 het ons ‘n ander kar gekoop.  My kinders was baie opgewonde.  Meer as een keer het ons vir hulle gesê:  ‘Ons sal dalk volgende week die nuwe kar kry.’  Verskeie probleme het egter gemaak dat die bepaalde dag aanhoudend uitgestel is.  Die lang wag het die dag van aflewering soveel soeter gemaak.

 

In 23:11 het Jesus belowe dat Paulus Rome toe gaan.  Romeine 1:10-11, 15:22-23 praat van sy begeerte om Rome toe te gaan.  Paulus het baie lank vir dié dag gewag.  Kan jy jou voorstel hoe bly hy moes gewees het toe ‘n groep Christene uit Rome hom op die pad ontmoet het?  Uiteindelik!  Hulle het 70 km suid na die Appius-mark[7] toe gereis om vir Paulus te ontmoet.  Ander het 48 km suid van Rome gewag om hom te ontmoet.  Die plek se naam was Drie Herberge.  Soos wat die naam aandui het reisigers seker hier gestop om verfris te raak (soos ons moderne 1-Stop vulstasies).  Toe Paulus die Romeinse gelowiges sien, was hy dankbaar en bemoedig.  Hy is nie in ‘n koue tronksel gesit nie, maar kon op sy eie bly (v.16).

 

Hoeveel van God se beloftes ken jy?  Hoe kan jy weet wanneer Hy dit vervul het as jy dit nie ken nie?  En as jy nie weet wanneer Hy dit vervul het nie, kan jy nie dankbaar en bemoedig wees nie.  Memoriseer dus sy beloftes.  Plak dit in jou huis op.  Sit dit op jou yskas.  Hier is vyf voorbeelde van beloftes wat jy kan neerskryf:

 

  • “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Hebreërs 13:5).
  • “Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:6).
  • “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20).
  • “en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Psalm 50:15).
  • “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (Psalm 23:4).

 

Ek het eenkeer op TV gesien hoe ‘n man onder ‘n dik laag ys swem.  Hy wou een of ander rekord breek.  Daar was elke paar meter ‘n gat in die ys gesny, sodat die man kon opkom vir lug indien iets sou foutloop.  Dit is wat God met ons doen:  Hy gee bakens van bemoediging, sodat ons nie in ons beproewing ondergaan en verdrink nie.

[1] John Piper, The Roots of Endurance, p.56

[2] Iain Murray, Jonathan Edwards:  A New Biography, pp.303-305

[3] Maltese poedels kom van Malta af.

[4] Tim Jeal, Livingstone, pp.58-59

[5] John Piper, The Pleasures of God, p.95, n.11

[6] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, PUBLIUS, e-sword

[7] Cladius Appius het in 312 v.C. die hoofweg voor dié mark gebou.

Jou anker in die storm

Anchor in storm

My vriend en sy vrou is laas Dinsdag in hulle huis aangeval.  Die rowers het hulle huis verwoes en hulle geslaan, met verkragting en die dood gedreig, en op my vriend geskiet.  Toe hy my bel kon ek die emosie in sy stem hoor.  Maar ten spyte van alles is God hulle anker in die storm, die rots onder hulle voete.  In ‘n nuusbrief skryf hy:  ‘They took some material possessions, but our lives and honour were spared because of the good hand of our God who placed a wall between our lives and their weapons… [We are] Trusting God.’  Sou jy dieselfde kon sê as dit met jóú gebeur het?  Ek hoop dat Handelinge 27 vir jou ‘n anker sal wees in die storm.

 

Die seiltog (v.1-12)

Ek onthou ‘n tyd van bitter beproewing in my lewe.  In dié tyd het ek gereeld die Psalms gebid.  Een oggend het ek Psalm 86 gebid.  Ek onthou hoe ek v.17 gebid het:  ‘Show me a sign of your favor’ (ESV).  Later in die dag het iemand my gebel.  ‘Hoeveel skuld jy op jou kar?’ het die persoon gevra.  Die bedrag was naby of net oor R11 000.  Die persoon het gesê:  ‘Jou kar is afbetaal.’  God het vir my ‘n bietjie suiker gegee, sodat ek die bitter pil van beproewing kon verduur.  Het so iets al met jou gebeur?

 

Paulus was onskuldig, en tog was hy ‘n gevangene saam met ‘n klomp ander.  Die skip waarop hy moes vaar was van Adramittium in noord-wes Turkye.  In sy bitter beproewing het die Here guns gegee:  die Romeinse offisier Julius het vir Paulus toestemming gegee om sy vriende in Sidon te besoek.  Verder was sy goeie en getroue vriende Aristarchus en Lukas saam met hom op die skip (19:29, 20:4, Kolossense 4:10, 14, 2 Timoteus 4:11, Filemon 24).

 

Van Sidon af het die skip onder die eiland Siprus geseil.  Die eiland sou dien as ‘n buffer om die wind van voor te keer.  Hulle het naby die kus van Cilisië gevaar tot by die hawestad Mira.  Hiér het hulle ‘n skip van Alexandrië gekry wat oppad was Rome toe.  Die vaart Italië toe was stadig.  Hulle het die wind van voor gehad toe hulle verby Cnidus seil.  Om windweerstand te verminder moes hulle onder die eiland Kreta verby seil.  Hulle het tot by Mooi Hawens en Lasea aan Kreta se suidkus gevaar.  Die Joodse Vasdag, die Dag van Versoening (Levitikus 23:27), was nou al verby.  Dit was reeds Oktober.  Die Middellandse See is soos die Kaap – dit reën in die winter.  Om dus in Oktober op die oop see te wees is gevaarlik.  Paulus het voorgestel dat hulle in Lasea oorwinter.  Hy het gewaarsku dat hulle die vrag, skip, en selfs hulle lewens kon verloor indien hulle verder sou seil.  Na talle seevaarte het Paulus die see geken.  Julius het gedink dat ‘n gevangene soos Paulus nie veel weet nie, en het eerder na die kaptein en skeepseienaar geluister.  Volgens húlle sou dit beter wees om 64 km verder te seil en in Fenix (‘n hawestad van Kreta) te oorwinter.  Dié hawe het suid-wes en noord-wes gelê, en kon die gevaarlike winde keer.

Moet ‘n Christen moed verloor in beproewing?  Wat kan jy doen om moed te hou?  Bid Psalm 86:17:  ‘Show me a sign of your favor’ (ESV).  Moenie so opgeneem wees in die beproewing dat jy God se guns miskyk en sê:  ‘Alles is teen my’ nie.  Probeer om nie heeldag oor jou beproewing te dagdroom, sodat jy bitter, bekommerd, en depressief raak nie.  Let eerder daarop om die Here te dank vir sy goedheid, soewereiniteit, beloftes, en guns.  Loof Hom vir die klein tekens van sy guns, en vertel dit vir ander.  Wees by ander gelowiges, sodat jy bemoedig kan word en nie heeltemal sink nie.  Wees dankbaar vir wat Jesus gedoen het:  in sy donkerste uur (Getsemane en Golgota) was Hy alleen, sodat jý nooit alleen hoef te wees nie.  ‘For God so loved the world, that [when Jesus prayed in the garden] He was silent.’ (C.J. Mahaney).  Wat sal gebeur as jy net die donker kant van jou beproewing sien?  Die beproewing sal twee keer so swaar wees om te dra:  jy sal nie net die beproewing moet dra nie, maar ook die twyfel, bekommernis, en vrees.

 

Die storm (v.13-38)

In 1977 het die Toccoa Falls dam gebreek.  Die Toccoa Bybel Instituut was onder water:  39 mense het verdrink, waarvan baie kinders was.  Die regering het sielkundiges gestuur om te help, maar hulle hulp was onnodig.  ‘n Sekere Robert Nuttal (‘n sielkundige) het vertel hoe Christene wat geliefdes verloor het, oortuig was dat dit deel was van God se plan.  Thurman Kemp het ‘n 7-jarige seun verloor.  Hy het gesê:  ‘Things happen for a purpose, and if God had wanted that dam to hold, He could have done it with a Band-Aid.’[1]  Dié storie en Handelinge 27 wys dat Christene en ongelowiges verskillend dink oor lyding.

 

Toe daar ‘n ligte suidewind waai, het die Romeinse offisier gedink dat Paulus se voorspelling verkeerd was… totdat daar ‘n stormwind (die Euroklidon) van die eiland af gewaai het.  Die skip is meegesleur.  Hulle het agter die klein eiland Clauda probeer skuil en het gesukkel om die reddingsbootjie op te hys.  Om te keer dat hulle deur die wind voortgedryf word, het hulle die mas en ankers laat sak.  Om te keer dat die skip se ‘rug breek’, het hulle kabels onderdeur laat sak om die romp vas te trek.  Hulle was bang dat hulle die sandbanke (Sirtis) aan die Libiese kus sou tref.  Om die skip ligter te maak het hulle die vrag en skeepsgereedskap oorboord gegooi.  Vir baie dae het hulle geen son of sterre gesien nie, en dus ook geen rigting gehad nie.  Niemand het gedink hulle sou oorleef nie, en daarom het hulle vir 14 dae nie ‘n eetlus gehad nie.  Al wie hoop gehad het was die drie gelowiges.  Paulus het gesê:

 

“Manne, julle moes na my geluister en nie van Kreta afgevaar het nie en julle so hierdie ramp en skade bespaar het.  Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip.  Want daar het in hierdie nag by my gestaan ‘n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien.  En hy het gesê:  Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar.  Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is.  Maar ons moet op ‘n sekere eiland strand.” (v.21-26).

 

In Genesis 18:26 sê die Here oor Sodom:  “As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad, dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil.”  Die volgende hoofstuk sê dat God om Lot se ontwil vir Soar gespaar het, en om Abraham se ontwil vir Lot gespaar het (Genesis 19:21, 29).  So het God hiér die bemanning vir Paulus se onthalwe gespaar.  Jesus het gesê dat Paulus in Rome moes getuig (23:11).  Nou sou Hy sy belofte hou.

 

Die skip was nou al vir 14 dae op die see; hulle het op die Adriatiese See rondgedryf.  Teen middernag het hulle vermoed dat die strand naby was (het hulle gehoor hoe branders teen die kus breek?).  Hulle kon nie in die donker sien nie, en het probeer meet hoe diep dit was.  Dit was 40 meter diep.  Met die tweede meting was dit 30 meter diep.  Omdat hulle bang was vir rotse, het hulle vier ankers van die skip se agterkant laat afsak.  Hulle het gebid vir die oggend om te kom (Jona 1:5).  ‘n Paar van die gevangenes wou met die reddingsbootjie ontsnap, en het gemaak of hulle nóg ankers aan die skip se voorkant wou laat sak.  Paulus het van hulle plan geweet en vir die offisier gesê:  “As hierdie manne nie in die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.” (v.31).  Die soldate het dadelik die bootjie se toue losgesny.

 

Paulus het op die Here vertrou en met groot kalmte vir die bemanning gesê om moed te skep en iets te eet, sodat hulle hul kragte kon herwin.  Op grond van God se belofte het hy hulle belowe dat nie een van hulle ‘n haar sou verloor nie (Lukas 21:18).  Paulus het gedank, brood gebreek, en geëet.  Al 276 passasiers het moed geskep en geëet.  Ná ete het hulle die koring in die see gegooi.  Hulle wou die skip ligter maak, sodat dit die land kon bereik.

 

Verstaan jy hoekom jy ‘n Bybelse teologie van God en lyding moet hê?  Sorg dat jy dit het vóór die storm tref, sodat jy gereed is as dit kom.  Glo dat God, en nie die duiwel of toeval nie, in beheer is van beproewing.  Die Bybel sê:

 

  • Josef se boeties het hom as ‘n slaaf verkoop Egipte toe. Maar hier is wat hý gesê het: “Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur… Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God” (Genesis 45:5, 8).
  • “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?” (Eksodus 4:11).
  • “Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom. Die HERE maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy.” (1 Samuel 2:6-7).
  • Toe Job se rykdom en al tien sy kinders op een dag weggevat is, het hy gesê: “Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” (Job 1:21). Was Job verkeerd in wat hy gesê het? “By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie” (Job 1:22).
  • Toe Job siek word, het sy vrou gesê hy moet God vloek en sterf. Wat was Job se reaksie? “Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.” (Job 2:10).
  • “[Ek is die Here] wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.” (Jesaja 45:7).
  • “Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie? Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?” (Klaagliedere 3:37-38).
  • “Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?”(Amos 3:6).
  • “Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.” (Handelinge 4:27-28).

 

Wanneer jy ly is dit belangrik dat jy God se beloftes en liefde glo, dat Hy alles vir jou voordeel doen (Romeine 8:28-39).  ‘n Regte gesindheid in lyding is ‘n kragtige getuienis.  Vir die gelowige wat swaarkry is God se soewereiniteit ‘n rots onder sy voete.  Wat sal gebeur as jou uiterlike besittings weggevat word, en jy geen innerlike rots het om op staat te maak nie?  Jy sal vou.  Ja, treur as jy swaarkry.  Maar moenie treur soos ongelowiges wat geen hoop het nie.

 

Die skipbreuk (v.39-44)

Op 1 Junie 1773 het ‘n Nederlandse handelskip, De Jonge Thomas, vasgeval in ‘n sandbank in Tafelbaai.  Baie van die wat aan die skip se romp vasgeklou het, het gesterf.  Die wat kon swem het probeer om die land te bereik, maar die sterk gety het hulle in die see ingetrek.  Die sterkste swemmers het uitgekom en die res het in die ysige water verdrink.  Wolraad Woltemade het met sy perd ‘Vonk’ in die see ingery.  Twee matrose het aan die perd vasgehou en is uitgetrek.  So het hy sewe keer heen en weer gery en 14 matrose gered.  Toe die skip meegee het hy weer ingery.  In desperaatheid het ses matrose aan die perd vasgeklou.  Woltemade, sy perd, en die ses matrose het almal verdrink.  Van die 191 aan boord het 53 oorleef, waarvan Woltemade 14 gered het.  In Handelinge 27 was daar 276 aan boord.  Nie een van hulle het verdrink nie.  God het almal gered.

 

Toe die dag breek het niemand die onbekende eiland herken nie.  Hulle het die ankers losgesny, die roertoue losgemaak, en die voorste mas gehys.  Hulle wou die skip strand.  Ongelukkig het die skip se voorkant ‘n sandbank getref.  Die branders het die skip se agterkant verpletter.  Die soldate het gevrees dat die gevangenes sou wegswem, en wou hulle doodmaak.  Die soldate het die wet geken:  as ‘n gevangene ontsnap word jý doodgemaak (12:19).  Julius het van Paulus gehou en gekeer dat die soldate hulle plan uitvoer.  Die wat kon swem het ingeduik en strand toe geswem.  Die res het op planke tot by die strand gedryf.  God het sy belofte gehou en almal veilig tot by die land gebring (v.44, 22, 24-25).

 

Hoe moet gelowiges realisties wees oor beproewings?

 

[1] Moenie verwag dat jou lewe vry sal wees van beproewings nie.  Moenie dink dat jy nie sal swaarkry nie.  Moet ook nie dink dat hierdie die laaste beproewing is wat jy sal deurmaak nie.  Die Skrif sê:

 

  • “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.” (14:22).
  • “Ek het wel in my sorgeloosheid gesê: Ek sal vir ewig nie wankel nie. HERE, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan. U het u aangesig verberg—ek het verskrik geword!” (Psalm 30:7-8).
  • “sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is.” (1 Tessalonisense 3:3).
  • “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” (Lukas 9:23).

 

[2] Moet ook nie dink dat jou beproewing uniek is, of dat jy die enigste een is wat ly nie.  Moenie dink dat die son nooit weer sal skyn nie, dat God van jou vergeet het, of dat jou geloof sal knak nie.  Die Bybel sê:

 

  • “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1 Korintiërs 10:13).
  • “Tears may flow in the night, but joy comes in the morning.” (Psalm 30:5, Good News Bible).
  • “En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan.” (2 Timoteus 4:18).
  • Sien ook Romeine 8:28-39.

 

As jy in sloot nr. 1 val sal jy geskok en verras wees as die beproewing kom.  Dit sal jou omkant vang.  As jy in sloot nr. 2 val sal jy depressief en hopeloos wees.

 

Toe ek ‘n kind was het ons rygdraad gevat en klein ankers daaruit gemaak.  Natuurlik was dit nie baie sterk nie.  Jesus het gesê dat daar ‘n finale storm kom (Matteus 7:24-27).  As jy op jou werke, godsdienstige pogings, of ander verlossers staatmaak, is jou anker van rygdraad gemaak.  Net as jy jou bekeer en vertrou op die sterk anker van Jesus se Persoon, sy volmaakte en sondelose gehoorsaamheid, en sy kruisdood en opstanding vir sondaars, sal jy die finale storm van God se oordeel oorleef.

[1] Jay Adams, A Theology of Christian Counseling, p.155

’n Rotsvaste belofte

Pushing rock

’n Paar weke gelede was ek by die see.  Twee of drie keer het ek op die rotse gaan staan, terwyl die branders 3 meter onder my gewoel het.  Ek was veilig.  God se belofte aan Abraham was rotsvas:  “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.” (Genesis 12:2).  En so ook is sy belofte aan ons:  “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matteus 16:18).  Ja, daar was en is hindernisse wat lyk of dit teen die belofte indruis.  Maar God se beloftes is rotsvas en daarom is ons veilig.

 

Die dood (v.1-7)

In die sestiende eeu het ‘Bloody’ Mary 300 evangeliese Christene verbrand.  Haar plan was om die Protestante uit te roei en Katolisisme in Engeland te vestig.  In 1555 het sy vir Hugh Latimer en Nicholas Ridley saam verbrand.  Latimer het gou gesterf.  Ridley was nie so gelukkig nie.  Aan sy kant was die hout nie so mooi gepak nie.  Sy bene is afgebrand voordat die vuur sy middel bereik het.  Dié aaklige gesig het honderde toeskouers tot trane gedryf.  Mary se wreedheid het die teenoorgestelde effek gehad as dit waarvoor sy gehoop het.  Die volk het Katolisisme met tirranie vereenselwig.  Hulle het Mary se godsdiens gehaat.  Toe sy dood is het ‘n gety van wit-warm, anti-Katolieke vlugtelinge die Engelse kus getref.[1]  Die dood self kon Jesus se belofte nie keer nie.[2]  Ook in Eksodus 1 het die Here se belofte aan Abraham rotsvas gestaan.[3]

 

‘En…’  Hoekom begin Eksodus so?  Moses, die outeur, wil wys dat die boek op Genesis volg.  Die eerste verse van Eksodus is ‘n opsomming van Genesis se laaste hoofstukke:

 

1 En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het; saam met Jakob het hulle gekom, elkeen met sy huisgesin: 2 Ruben, Símeon, Levi en Juda; 3 Issaskar, Sébulon en Benjamin; 4 Dan en Náftali, Gad en Aser. 5 En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele.  Maar Josef was in Egipte. 6 En Josef het gesterwe, en al sy broers en daardie hele geslag.”

 

Hoekom word Jakob se seuns in dié spesifieke volgorde genoem?  Die eerste ses is Lea s’n.  Benjamin is Ragel se seun (Josef was reeds in Egipte).  Die volgende twee is Ragel s’n deur haar slavin, en die laaste twee Lea s’n deur háár slavin.  Altesaam het sewentig mense Egipte toe gekom.  Die jare het verbygegaan.  Josef, sy broers, en daardie hele geslag het uitgesterf.  Maar die dood kon nie die belofte keer nie.  Die familie van 70 het vermeerder tot ‘n magtige nasie van ‘n paar miljoen (Numeri 1:46).  Nou was hulle soos die sterre in die hemel (Genesis 15:5).  Die werkwoorde in v.7 beklemtoon dit:  “Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.”

 

Is die dood in die 21ste eeu anders as in die tyd van Moses en ‘Bloody’ Mary?  Kan dit in 2014 God se belofte keer?  Ons moet God en Christelike leiers in die regte perspektief plaas.  Ons is slawe (1 Korintiërs 3).  God is die Meester.  Daarom sê Jesus:  “wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan:  Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Lukas 17:10).  Sal die kerk tot niet gaan, omdat die ou steun pilare van jou kerkgroep nie meer daar is nie (in ons geval, die Odendaals, Venters, en Raubenheimers van die ABK)?  Wat van jou gemeente:  sal dit vou as die huidige leraar wegval?  Sal die Christelike wêreld ineenstort as jou gunsteling prediker of outeur sterf (John MacArthur, John Piper…)?  Het die Here se werk opgehou toe Moses dood is?  “En ná die dood van Moses, die kneg van die HERE, het die HERE met Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, gespreek en gesê:  My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee.” (Josua 1:1-2).

 

Hoekom moet jy nie jou hoop in mense plaas nie?  Want mense vergaan soos gras.  Om jou hoop op ‘n mens te plaas is om hom te aanbid.  Jy sien ‘n mens, en nie vir Jesus en sy belofte nie, as die rotsvaste fondasie waarop jy moet bou.  Maak jy te veel van ‘n predikant of ander Christelike leier, en te min van Jesus en sy rotsvaste belofte?

 

Slawerny (v.8-14)

Lank gelede was daar ‘n boom genaamd ‘Kerk’.  ‘n Stormwind genaamd ‘Wêreld’ het daarteen gewaai.  Dit het takke afgeruk en die boom se blare gestroop.  Maar die saad het versprei.  ‘n Magtige haelstorm genaamd ‘Satan’ het die boom getref en erg beskadig.  Tog het dit die boom verkwik en baie van die dooie takke genaamd ‘Vals Gelowiges’, afgebreek.  God gebruik sy vyande om die kerk te laat groei.  “Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.  En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.” (Handelinge 8:3-4).  In Eksodus 1 is dit nie anders nie.

 

Jare nadat Josef dood is het ‘n nuwe Farao het aan bewind gekom.  Hy het nie vir Josef erken of iets gevoel vir sy geliefde volk nie.  Maar hy het hierdie groot volk gevrees.  Hy het alles in sy vermoeë gedoen om oorlog te voorkom, want as hulle teen hom moes opstaan, sou hy dit nie oorleef nie.  En as hulle die land verlaat het, sou die ekonomie in duie gestort het.  Die land was afhanklik van hulle.  Watse afskrikmiddel kon Farao gebruik?  Hy het hulle met dwangarbeid onderdruk en opsigters oor hulle aanstel.  Deur die eeue het God se vyande soos hý gedink:  “Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes.  Hulle sê:  Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.” (Psalm 83:4-5).

 

Die Israeliete het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou.  Pitom is vernoem na die songod van noord-Egipte, en beteken ‘huis van Tum’.  Raämses is na Farao se seun, Rameses vernoem.

 

Farao se plan het nie gewerk nie.  Ten spyte van die onderdrukking het Israel vermeerder.  Die Egiptenare moes ‘n nuwe plan uitdink.  Wat sou dit wees?  Onmenslike slawerny!  Die mans sou min by hulle vroue wees, en ás hulle hul vroue gesien het, sou hulle te moeg gewees het vir seks.  Te moeg vir seks?  ‘n Man!?  Gmf…  Weer het die Egiptenare se plan misluk.

 

Dink Bybels oor vervolging en lyding.  In ons gemaksugtige samelewing is dit nie maklik nie.  Wanneer vervolging en lyding kom wil ons dit so gou as moontlik weg bid:  ‘Here, laat die Moslems in Irak asseblief ophou om die Christene te vervolg… Here, moenie dat die ateïste Christenskap uit ons skole wegvat nie… Here, keer asseblief die EFF om aan bewind te kom.  As húlle die land regeer sal Christene binnekort vervolg word.’  Ons moet leer om éérs te bid:  ‘Here, dankie dat U ook hiérdie vervolging en lyding vir die goeie gaan uitwerk.  Gebruik dit asseblief om ons meer soos Jesus te maak.  Dankie dat U belofte rotsvas staan:  U sal U kerk bou, en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie.’  As jy dit nié doen nie sal jy in vrees lewe.  Kort voor lank sal jy die wêreld en die duiwel as gelyke opponente teen God beskou.  Jy sal die waarheid van verse soos Psalm 2:4 vergeet:  “Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle [sy vyande].”

 

Kindermoord (v.15-22)

Wat doen sonde met jou verstand?  Dit laat jou onderstebo dink – soveel so dat mense hulpelose babas sal doodmaak sonder dat hulle verskroeide gewete kriewel.  In Jeremia 32:35 het die Israeliete hulle kinders vir Molog geoffer.  Koning Hasael van Sirië het Israel se swangervroue oopgesny en die ongebore kinders verpletter (2 Konings 8:12).  In Matteus 2 het Herodes die Grote al die babas in Betlehem geslag.  Oor die inwoners van Carthage sê Plutarch:  ‘[They] offered up their own children, and those who had no children would buy little ones from poor people and cut their throats as if they were…lambs or young birds; meanwhile the mother stood by without a tear or moan.’[4]  China se ‘one child policy’ lei daartoe dat miljoene kinders doodgemaak word.  In die weste word daar elke jaar net soveel ongebore kinders vermoor.  Om ons gewete te sus noem ons dit nie moord nie, maar ‘aborsie’.

 

Vir Farao was dit geen probleem om die Israeliete se seuntjies te vermoor nie.  So kon hy die potensiële bedreiging verwyder.  Hy het die vroedvroue opdrag gegee om die seuntjies dood te maak.  Wanneer hulle die kind gevang het kon hulle net maak of dit ‘n stilgeboorte was.  Niemand sou weet nie.  Wat het die vroedvroue gedoen?  Hulle het God gevrees, want Hý sou weet.  Hulle het gedoen wat elke gelowige in sulke omstandighede behoort doen:

 

  • “deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad.” (Spreuke 16:6).
  • “Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.” (Daniël 3:16-18).
  • “En Petrus en die apostels antwoord en sê [vir die Joodse Raad]: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” (Handelinge 5:29).

 

Farao het gou besef dat die vroedvroue nie sy opdrag uitgevoer het nie.  Hy het nie ma’s gehoor huil nie, maar babas.  Hy het die vroedvroue laat roep:  “Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe?  En die vroedvroue sê vir Farao:  Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk—voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar.” (v.18-19).  Moet ons aanneem dat die vroedvroue vir Farao gejok het?  Of het die Here gemaak dat die ma’s gou geboorte gee, sodat Hy die volk vermeerder en die vroedvroue se lewens beskerm het?  God het die vroedvroue beloon deur vir hulle gesinne te gee.  Die Skrif sê mos “dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees” (Prediker 8:12).

 

Farao was woedend.  Wat sou hy volgende doen?  Hy het vir die Egiptenare gesê:  “Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.” (v.22).  In Egipte het hulle die Nyl tot ‘n god vereer (Hapi).  Farao se plan het hom nie net teen die Israeliete beskerm nie, maar ook Hapi se guns gewen.  Maar is dit nie ironies dat Jahwe later Egipte se mans in die Rooisee laat verdrink het nie (15:1)?

 

Hoe moet jy reageer op die leerstelling van God se getrouheid?

 

[1] Glo die verse wat daaroor praat.

 

  • “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Numeri 23:19).
  • “in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het” (Titus 1:2).
  • “Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê” (Hebreërs 6:17-18).

 

[2] Glo dit as jy dié vraag antwoord:  Geld Jesus se belofte in Matteus 16:18 vir die vervolgde kerk in Irak; vir die sukkelende kerk in Suid-Afrika; vir jóú klein gemeente?

 

[3] Maak dubbel seker dat die belofte jou insluit.  Is jy deel van die kerk?  Is jy deel van God se volk?  Jy kan dit net wees deur Jesus Christus.  Jy moet glo dat Hy aan die kruis gesterf het vir sondaars en weer opgestaan het uit die dood; dat Hy die ewige God is wat mens geword het.  Jy moet op Hom vertrou en nie op jou eie pogings, godsdiens, of goeie werke nie.  Jy moet jou van jou sonde bekeer en by Hom pleit om jou te vergewe.  Anders kan die belofte mos nie vir jóú geld nie, of hoe?

 

[4] Ten spyte van Farao se sonde het God sy belofte vervul.  Die Nuwe Testament sê:  “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (2 Timoteus 2:13).  Maar beteken dit jy kan sonde doen omdat God getrou is?

 

[5] Moenie hoop verloor as die ergste gebeur nie:  as Farao seuntjies in die Nyl verdrink of ISIS kinders onthoof (v.22).  “How often have men said, ‘This is the end,’ then a revival has come.” (Martyn Lloyd-Jones).

 

God se getrouheid, sy rotsvaste belofte, gee hoop in ons donkerste uur.

 

My beste vriend is groot en sterk.  Toe hy nog groter was het hy eenkeer in Nelspruit vir my kom kuier.  Ons was op ‘n plaas en het ‘n rots ontdek wat omtrent so groot soos ‘n klein kind was.  Drie van ons het probeer om die rots met ons bene teen die helling af te rol.  Selfs met die hulp van my groot vriend was dit nie maklik nie.  God se belofte is ontelbaar keer groter as ‘n klein kind.  Wees gerus.  Niemand sal hiérdie rots skuif nie.

[1] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, B&H Publishing, NASHVILLE, 2009, pp.136-140

[2] Matteus 16:18

[3] Genesis 12:2

[4] Alvin Schmidt, How Christianity changed the world, Zondervan, GRAND RAPIDS, 2001, 2004, p.49