Moenie in jouself glo nie

Cat seeing Lion in mirror

Dit is erg dat die wêreld vir jou sê om in jouself te glo.  Maar dit is erger dat Christelike boodskappe op Whatsapp en Facebook vir jou sê om dit te doen, en dat Christelike sprekers by vroue kampe hierdie denke aanmoedig.  Jes.21:11-22:25 wys vir ons wat met Israel en die nasies gebeur het toe hulle in hulleself geglo het, en nie in die Here nie.

 

Edom (21:11-12)

Een van my vriende het verlede jaar deur diep waters gegaan.  Teen die einde van die jaar het dinge beter geraak.  Maar die son het net vir ‘n maand of twee geskyn, toe iets harder hom getref het.  In 21:11-12 het dit met Duma en Seïr in Edom gebeur (vgl. Gn.32:3).

 

Edom was suid-oos van die Dooie See.  Iemand het ‘n boodskapper van Seïr af na Jesaja toe gestuur (21:11).  “Wagter, hoe ver is dit in die nag?” het hy twee keer in desperaatheid gevra.  Edom wou eintlik geweet het of die nag van Assirië se verwoesting amper verby was.

 

Die wagter het geantwoord:  ‘Die verdrukking sal verbygaan en die oggend sal weer kom.  Maar dan sal dit weer nag word.  Moet dan nie te gou bly raak nie.  Maar moet ook nie in moedeloosheid verval nie, aangesien dinge wel in die toekoms beter sal word.  Ek is nie presies seker wanneer nie, maar dit sal gebeur.  Stuur dus later weer ‘n boodskapper om uit te vind.’ (21:12).

 

Die groot les wat ons in hierdie verse leer, is dat ons op die Here moet wag.  Edom het dit nie gedoen nie, en daarom het die Here hulle tot ‘n einde gebring (Obadja).

 

Wanneer jy deur ‘n krisis gaan, help dit nie jy raak ongeduldig of kwaad vir die Here nie – dit gaan nie die situasie verander nie.  Vra eerder vir die Here om jou deur die Woord te lei (21:11).

 

Moenie opgee as Hy jou nie dadelik antwoord nie, of as dinge eers slegter raak voor dit beter raak nie; wag op die Here (21:12).  Onthou dat niemand sy planne kan keer nie, al lyk dit ook vir jou of niks gebeur nie.  Wag geduldig op die Here, volhard deur die beproewing, en moenie op jouself vertrou nie.

 

Arabië (21:13-17)

Dedan, Tema en Kedar was Arabiese stamme uit Abraham se nageslag by Ketura en Hagar (Gn.25:3, 13).  Die karavane van die Dedaniete het in die bosse van Arabië weggekruip, omdat hulle die Assiriërs gevrees het (21:13).  Hulle sou vir die Assiriërs se swaarde en boë gevlug het (21:15).  Die Temaniete sou hulle met water uit die oase, en met kos gehelp het (21:14-15, vgl. Job 4:1, 6:19).

 

Die Arabiere se wedersydse ondersteuning het egter nie gehelp nie.  Binne ‘n werksjaar sou die heerlike Kedarstam en haar boogskutters tot ‘n val gekom het (22:16-17).  Die Arabiere wat op mekaar gesteun het, sou uitgedun wees (21:17).  Soos die God van Israel dit voorspel het, het dit gebeur (21:17).

 

Die les in hierdie verse is dat die wêreld nie die middele het om hulle probleme op te los nie, al help hulle ook mekaar (21:13-17).  Hulle mag dalk vir tyd en wyl ‘n oplossing vind (21:13-15), maar op die einde is daar niemand wat hulle kan help nie (21:16-17).

 

Waarop sal hulle staatmaak as die rykdom waarin hulle geroem het gesteel word, as die mense in wie hulle gehoop het sterf, of as die gesondheid waarop hulle vertrou het ingee?  God is die enigste Rots op wie jy kan steun:  “Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie.” (Ps.62:3).

 

Vertrou op Hom en op niemand anders nie, ook nie op jouself of op dit wat jy vir die Here doen nie.  Wat gaan jy doen as jy so siek raak dat jy nie meer instaat is om te bedien of jou Bybel te lees nie?  Maak dus seker dat jy op Christus alleen vertrou.

 

John Paton het vir ‘n hele nag in ‘n boom weggekruip, terwyl die kannibale deur die bos gehardloop het om hom dood te maak.  Hy het niemand gehad om hom te help nie, en het sy hart voor die Here uitgestort.  Die nabyheid van Jesus het hom vertroos.  Hy skryf:  ‘If thus thrown back upon your own soul, alone, all, all alone, in the midnight, in the bush, in the very embrace of death itself, have you a Friend that will not fail you then?’[1]

 

Jerusalem (22:1-25)

Jare gelede het my oom se buurman homself doodgeskiet.  Dit was ‘n nare storie toe my oom op die toneel afgekom het.  Die familie het egter nie omgegee nie.  Hulle het die begrafnis as ‘n geleentheid beskou om dronk te word, losbandig op te tree, en laf te wees.  Dit is hoe Jerusalem in Jes.22 was.

 

Die vallei van die visioen verwys na Jerusalem wat deur berge omring is (22:1, 7, Ps.125:2).  Dit is hiér waar Jesaja sy visioene gehad het.  God se volk het egter geen vooruitsig gehad van die oordeel wat oppad was nie.  Hulle het op die huise se plat dakke geklim en fees gevier terwyl die Babiloniërs Jerusalem omsingel het en mense van die honger vergaan het (22:1-2, 13).

 

Toe die leiers uit die stad uit gevlug het, het die Babiloniërs hulle sonder moeite gevang (22:3, 2 Kon.25:3-7).  Jesaja het geweet dat die stad verwoes sou word, en daarom het hy nie saam met die res partytjie gehou nie maar gehuil (22:4).  Hy wou alleen gehuil het, en nie die goedkoop troos gehad het van mense wat sê dat alles ‘okay’ gaan wees, terwyl hy geweet het dit gaan nie ‘okay’ wees nie (22:4).

 

Die Babiloniërs sou Jerusalem se mure in die vallei van die visioen platgeslaan het (22:5).  Die geskreeu van die inwoners sou in die berge ge-eggo het (22:5).  Soos God dit bepaal het, het dit gebeur (22:5).  Elam en Kir het die Babiloniërs teen Jerusalem gehelp; soldate en strydwaens het die valleie gevul; perderuiters het buite die stadspoorte gewag (22:6-7).

 

God het nie meer vir Israel beskut nie, maar dit het haar nie gepla nie (22:8, Ps.105:39).  Sy het nie op die ewige God vertrou nie, maar op haar wapens, mure en voorraad (22:8-11, 1 Kon.10:17, 2 Kron.32:4-5, Jer.33:4).

 

Die volk moes berou gehad het en dit gewys het, maar in stede daarvan was hulle bly en het hulle fees gevier asof niks verkeerd is nie (22:12-13).  “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons,” het hulle gesê (22:13).  Moes hulle hulle nie eerder tot die Here bekeer het, as om vir ‘n laaste keer fees te vier nie (22:13)?

 

Die mense wat só gelewe het, kon nie vergewe word nie, maar hulle sou in hulle sonde gesterf het (22:14).  Hoe kon die Here hulle vergewe het as hulle op hulleself vertrou het en nie op Hom nie (Heb.10:26, 29)?

 

Sebna in beheer van die koning se paleis was so (22:15).  Sy arrogante trots was tipies van die volk s’n.  Hy het nie omgegee oor wat ná die dood met hom gaan gebeur nie (22:13), solank hy in ‘n koninklike graf gelê het en mense hom op sy begrafnis geprys het (22:16).

 

Hieroor het Jesaja hom aangspreek:  ‘Wie dink jy is jy (22:16)?  Jy is gans en al te seker van jouself en van jou belangrike posisie.  Soos iemand ‘n bal uit ‘n slingervel gooi, sal die Here jou gryp en met geweld na ‘n ver land toe gooi (22:17).  Daar sal jy sterf en nié in die koninklike graf lê soos jy gedink het nie (22:18, 16).  Egipte se strydwaens waarop jy vertrou het, sal saam met jou daar lê (22:18, 31:1, 36:9).  Niemand sal jou prys wanneer jy weg nie, maar jou as die skande van die koning se huis onthou (22:18).

 

‘Die Here sal jou uit jou amp uit verwyder; Hy sal jou “demote” en afbring aarde toe (22:19, 15, 36:22).  Hy sal Eljakim die seun van Hilkia as sy kneg roep en hom in jou plek aanstel (22:20, 37:2).  Hy sal jou leierskleed, gordel en gesag vir hom gee (22:21).  Hy sal soos ‘n vader wees vir die volk (22:21, Gn.45:8).  Omdat die sleutel van Dawid op sy skouerband is, sal net hý die gesag hê om te besluit wie in die paleis mag inkom en wie nie (22:22).

 

‘Die Here sal hom soos ‘n stewige pen vasslaan (22:23).  Hy en sy familie sal egter sy ereplek en rykdom misbruik om hulleself te bevoordeel (22:23-24).  Soos potte en koppies wat aan ‘n kombuishak hang, sal Eljakim se familie op hom steun om hulle te dra (22:24).  Die populariteit sal vir hom te veel raak, sodat hy en sy familie onder die gewig knak (22:25).  So het die Here gespreek, en so sal dit gebeur (22:25).’

 

Wat leer Jes.22 vir ons?

 

[1] Ons land is op ‘n slegte plek.  Terwyl Knysna en die Bloemfonteinse stadsaal afbrand, terwyl misdaad toeneem en die regering korrup is, lê ons nie op ons gesigte voor die Here nie, maar leef ons in vrolikheid en sonde, asof daar geen oordeelsdag, hemel en hel is nie (22:2, 13, 1 Kor.15:32).

 

Moenie dat die wêreld jou onsensitief maak, sodat hierdie dinge jou nie pla nie.  Bid vir ons land; treur en moenie lag nie (22:12-13, Jk.4:9).  Wees soos Jesaja en sien die werklike toestand van sake (22:4).

 

[2] Ons het die Here nodig (22:11b).  In ‘n era van wetenskaplike navorsing en tegnologiese vooruitgang, moet ons nie dink ons is selfgemaakte mense wat nie die Here nodig het nie (22:8-11a).  “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” (Sp.3:5-6).  Vertrou jy op jouself en nie op die Here nie?  Het jy opgehou om te bid en jou Bybel te lees?

 

[3] Moenie soos Sebna te veel van jouself dink nie (22:16).  Daar bestaan iets soos ‘n gesonde menswaardigheid en selfrespek, maar dit is glad nie waar dat jy ‘n fantasiese selfbeeld moet hê, sodat jy elke dag in die spieël vir jouself sê hoe goed, mooi en suksesvol jy is nie.  Dit is niks anders as hoogmoed nie.  En as jy hoogmoedig is, sal jy hard val (22:15-19, Sp.16:18).

 

[4] Dié wat op hulleself en hulle eie vermoeëns vertrou, vertrou nie op die Here nie, en kan nie gered word nie (22:14, Lk.18:9-14).  Hulle hoop is ydel en leeg; dit kan hulle nie red nie.  Net dié wat in Christus glo kan met sekerheid weet dat God hulle nou en op die oordeelsdag sal red (Rm.8:1).  Moet dan nie op jouself vertrou nie, maar op die Here.

 

[5] Wat mense op jou begrafnis van jou sê is nie naastenby so belangrik soos waar jy sal wees wanneer hulle dit sê nie (22:16-18).  Sal jy in die hemel of in die hel wees?  Dit is die groot vraag wat jy vir jouself moet vra.  Dié wat op Jesus vertrou en in Hom glo sal in die hemel wees.  Hy het die sleutel van Dawid om ons in die Koninkryk van God te laat inkom (Op.3:7, Lk.10:21-22).

 

[6] Moenie op ander vertrou en in hulle glo om jou te red nie (22:23-25).  Jy kan nie hemel toe gaan omdat jou pa ‘n dominee was, of omdat jou ouma die Here gedien het nie.  Jy kan nie op grond van jou ouers se geloof gedoop word en dink dat jy nou deel van God se spesiale se verbond met die kerk is nie.

 

Jou geloof moet op niemand anders rus as op Jesus en sy verlossingswerk nie.  Om op jouself of iets anders te vertrou, is om op sand te bou.  As die hooggety van God se oordeel inkom sal die sandkasteel van jou lewe inmekaar tuimel.  Vertrou daarom op die Here en nie op jouself nie.

 

[1] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, p.200

Advertisements

Bome sonder vrugte

Die verskil tussen ware en valse gelowiges

Barren fruit tree

In my erf het ek ‘n pruimboom wat nie vrugte dra nie.  Die helfte van die boom is so droog soos die Kalahari.  My vrou het al meer as eenkeer gesê dat ons die boom moet uithaal.

 

In Mk.11:13 en Lk.13:6-9 het Jesus gesê dat Israel ‘n vyeboom is wat nie vrugte dra nie.  Hy het dit vervloek en gesê Hy gaan dit uitkap.  Jud.12 praat van die vals leraars as vrugtelose bome.

 

In Jes.5 beskryf die profeet vir Israel as ‘n wingerd, en sê hy dat sy suur druiwe voortgebring het.  Dit sal help as ons uit haar voorbeeld leer, sodat ons nie in dieselfde strik trap as sy nie.

 

God se wingerd (v.1-7)

Wanneer Carina se plante vrek, sê sy maklik dat sy nie groen vingers het nie.  Die waarheid is egter dat sy nie genoeg tyd, aandag en water vir haar plante gee nie.  Maar met die Here is dit nie so nie.  Jy sal binnekort sien wat ek bedoel.

 

Jesaja het ‘n liefdeslied vir sy Beminde gesing (v.1).  Sy Beminde het ‘n wingerd uit Egipte gaan haal en dit op ‘n vrugbare heuwel in Kanaän geplant (v.1, Ps.80:9).  Hy het die grond omgespit en klippe uitgehaal om ‘n kwaliteit wingerd te plant (v.2, Jer.2:21).  Om dit op te pas en goeie wyn te maak, het Hy ‘n wagtoring gebou en ‘n parskuip uitgekap (v.2).

 

Maar toe die seisoen aanbreek, het Israel suur druiwe voortgebring en nie die soet en sappige vrugte van bekering nie (v.2, Mk.12:1-9).  Waar het dinge fout gegaan:  wie was verkeerd tussen die Boer en sy wingerd, tussen die Here en Israel (v.3)?  Die Here het alles gedoen dat die wingerd kon groei – hoekom het dit dan suur druiwe voortgebring?  Duidelik was die probleem by die wingerd en nie by Hom nie.

 

Wat sou Hy met die wingerd gedoen het?  Hy sou die doringheining [Heb. meśûkâh, Sp.15:19] en die klipmuur wat die wilde diere en skelms moes uithou, verwyder het (v.5, Sp.24:31).  Almal sou ingekom het om dit af te wei en te vertrap (v.5, 3:14, Eks.22:5, Ps.80:13-14, Jer.5:10).

 

Die Here sou nie meer die wingerd gesnoei het of omgespit het nie, maar dit in ‘n woestyn verander het (v.6).  Soos in Gn.3:18 sou Hy dit vervloek het, sodat dit met dorings en distels oortrek was (v.6, 7:23-25).  Hy sou ook vir die wolke gesê het om nie meer daarop te reën nie (v.6, Dt.28:23-24, 1 Kon.17:1).

 

Israel en Juda is die wingerd wat suur druiwe voortgebring het; die Here van die Leërskare is die Beminde van wie Jesaja in v.1 gepraat het (v.7).  In die verlede was die wingerd vir Hom ‘n plesier, maar nou het dinge verander.  Israel het nie die soet druiwe van reg en geregtigheid voortgebring nie, maar die suur druiwe van bloedvergieting en geskreeu (v.7).

 

In die Hebreeus klink die woordspeling só:  ‘Hy het mishpâ [reg] gesoek maar miśpâch [bloedvergieting] gekry; tsa‛ăqâh [geskreeu] in stede van tsedâqâh [geregtigheid].’

 

God se wee (v.8-30)

Het jy al ooit gedink dat die hel ‘n oorreaksie van God se kant af is, en gewonder hoekom Hy besluit het om ongelowiges so swaar te straf?  Ek het al, wat net wys dat ek nie die erns van sonde verstaan het nie.

 

‘n Paar jaar gelede het ek iets daarvan verstaan toe die Here my ‘n diep oortuiging van my eie sonde gegee het, en toe ek by Ellis Park gesien het hoe goddeloos mense is.  Ek het besef dat die probleem nie by God se verstaan van liefde lê nie, maar by ons verstaan van heiligheid.

 

En wanneer ons God se heiligheid verstaan, maak sy haat en oordeel oor die sonde in v.8-30 perfek sin.  Dié verse is eintlik ‘n kommentaar op v.1-7 waarin Jesaja die betekenis van suur druiwe en die vernietiging van die wingerd verduidelik.

 

[1] Materialisme

Die Here het sy wee uitgespreek teen dié wat Lv.25:23-31 oortree het, en prokureurs gehuur het om die armes se familieplase by hulle weg te vat (v.8, 3:14-15, 1 Kon.21, Mg.2:2, 9, Am.2:6-7).  Soos in die bordspeletjie Monopoly, wou hulle alles vir hulleself gehad het, en het hulle as’t ware die armes van die grond afgedruk.

 

As gevolg daarvan het die Here van die Leërskare vir Jesaja gesê dat Hy die rykes uit hulle groot en luukse huise uit sou verwyder (v.9, Am.3:15).  Hy sou die wingerde en koringlande wat hulle by die armes gesteel het, onvrugbaar gemaak het:  ‘n wingerd van vier hektaar (vier rugby velde), sou slegs 22 liter wyn opgelewer het, en ‘n 220 liter drom vol saad sou ‘n skrale 22 liter koring opgelewer het.  Die gulsige rykes sou teen ‘n hengse verlies geboer het (Lv.26:26, Hg.1:6, 2:16).

 

[2] Hedonisme[1]

God het sy wee uitgespreek teen dié wat van vroeg tot laat sterk drank en wyn gedrink het (v.11).  Volgens een kommentator het drank hulle soggens laat opstaan, en saans uit die bed uit gehou.[2]  Hulle het vir partytjies gelewe; hoe dronker hulle was, hoe lekkerder het hulle gesing (v.12, Am.6:5-6).  Hulle het nie daaraan gedink om die Here vir sy groot werke te prys nie; die musiek was vir hulle eie vermaak (v.12).

 

Hoekom sou hulle buitendien die Here geëer en gehoorsaam het as hulle Hom nie geken het nie (v.13, Hos.4:6)?  A.g.v. hulle onkunde en sonde, sou die Here hulle na ‘n vreemde land toe gevat het (v.13).  Hulle sou nie meer luukse partytjies gehou het waar daar volop kos en wyn was nie, maar hulle sou honger en dors gewees het (v.11-13).

 

Die doderyk sou egter sy mond oopgemaak het en homself trommeldik geëet het (v.14).  Die rykes se dood was die begraafplaas se brood.  So het God hulle hoogmoedige oë afgebring en hulle verneder (v.15, 2:9, 11-12).  Hy het hulle leë en bouvallige huise die weiplek van lammers en trekbokke gemaak (v.17).  So het God die rykes se neuse in die grond gevee; Hy het Homself en sy heilige geregtigheid verhef (v.16).

 

[3] Spottery

Die volk het hulle boosheid met die wa-toue van goddeloosheid nadergesleep en dit met hulle saamgedra (v.18).  Soos in ‘n net het hulle verstrik geraak, sodat hulle nie kon vrykom nie (v.18, Sp.5:22).  Die sonde het hulle verblind en verhard, sodat hulle gesê het:  ‘Na baie jare van sonde het die Here nog nie iets aan ons gedoen nie.  As Hy regtig ‘n probleem met ons het, wil ons Hom uitdaag om ons te oordeel sodat ons kan weet dat Hy bestaan!’ (v.19, vgl. 2 Pt.3:4).

 

[4] Amoraliteit

Dit verwys na mernse wat nie morele waardes het nie.  Uiteindelik raak dit so erg, dat hulle sê goed is sleg en sleg is goed (v.20).  Hulle dink onderstebo (Rm.1:28).  Volgens húlle is morele waardes ‘n kwessie van smaak:  ‘Dit wat vir jou bitter en donker is, is vir my soet en lig’ (v.20).  Maar die mense wat só lewe sal geoordeel word (v.20).

 

[5] Verwaandheid

Daar was ook wee vir dié wat eiewys was en nie bereid was om vir die Here te luister nie (v.21, 24, Sp.3:7, 12:15, 16:18, 26:12, 16, 28:11, Rm.12:16).

 

[6] Onreg

Wee het gewag op dié wat dapper helde was wanneer dit by wyn en sterk drank kom (v.22, 11).  Hulle het mekaar ‘gedare’ om te kyk wie die sterkste drank kan drink.  So het hulle gewys dat hulle ‘regte manne’ is.  Maar in hulle besope toestand het hulle die gereg verdraai (v.23).  Vir ‘n groot som drankgeld het hulle die skuldige persoon vrygelaat, en die onskuldige van sy regte ontneem (v.23, Eks.23:8, Sp.17:15).

 

[7] Dood

Omdat hulle die Heilige God se Woord en wet verag het, sou die vlamme van sy oordeel hulle soos droë gras en stoppels verteer het (v.24).  Hy sou die wingerd tot aan sy wortels vernietig het, sodat die bloeisels nie vrugte voortgebring het nie (v.24).

 

God se woede sou soos ‘n vuurhoutjie by petrol teen hulle ontvlam het; dit sou hulle soos ‘n aardbewing geskud het (v.25, Jer.4:24, Nah.1:5).  Hy sou hulle met ‘n regter vuishou geslaan het (v.25).  Die oortreders se lyke sou soos rommel in die strate gelê het, en selfs ná dit sou Hy nie die uitgestrekte arm van sy toorn teruggetrek het nie (v.25, 9:12, 17, 21, 10:4).

 

In sy soewereiniteit oor die nasies sou Hy sy banier vir hulle gewaai het en gefluit het, sodat hulle van die eindes van die aarde af teen God se uitverkore volk gekom het (v.26, 7:18, Dt.28:49).  Volgens Jesaja was Israel se vyande:

 

  • So vinnig soos ‘n warrelwind (v.26, 28).
  • Wakker, dodelik en slaggereed (v.27-28).
  • Instaat om sonder rus aan te hou veg (v.28).
  • Aggressief soos sterk jong leeus wat brul en grom as hulle iets gevang het (v.29).
  • Angswekkend soos reuse branders op die see en donker wolke wat die son uitblok (v.30, 8:22). Daar was nie ‘n enkele straal van hoop nie.

 

Watse lesse leer ons uit Jesaja 5?  Moenie soos Israel dink dat jy aan die Here behoort as jy nie die goeie vrug van bekering dra nie.  Dit is tog die vrug van goeie werke wat wys of iemand se geloof eg is, en of hy gered is of nie (Jk.2:14-26).  Jesus het ook gesê dat jy die boom aan sy vrugte sal ken, en dat dié wat sy lering uitvoer en die wil van die Vader doen, waarlik gered is (Mt.7:20-27).

 

Volgens Petrus kan jy weet of God jou gekies en geroep het, as jou geloof die goeie en gesonde vrug van gehoorsaamheid voortbring (2 Pt.1:10, 5-9).  As die Wingerd se lewensap deur jou vloei, kan jy nie anders as om die vrug van ware bekering te dra nie (Jh.15:1-8).

 

Jou eenheid met die Ware Wingerd sal gesien word in die feit dat jy geestelik groei; dit sal gesien word in karaktertrekke soos morele opregtheid, ‘n persoonlike kennis van God, selfbeheersing, volharding, ‘n toegewyde lewe, ‘n toegeneentheid [Eng. ‘affection’] tot ander Christene, liefde vir God en jou naaste, blydskap in die Here en vrede met Hom, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid en sagmoedigheid (2 Pt.1:5-8, Gal.5:22).

 

Iemand wat die suur druiwe van Jes.5 en ander sulke gedeeltes dra, wys dat hy nie gered is nie.  Te veel mense maak hulle uiterlike verbintenis tot die kerk die termometer waarvolgens hulle meet of hulle hemel toe gaan of nie:  die doop, lidmaatskap, tiendes, kerkbywoning, verkiesing tot die amp van ouderling of diaken, ens.

 

Hierdie mense se leefstyle wys egter dat hulle nie die Here ken nie, en dat hulle nie die eerste ding van Christenskap verstaan nie.  Vir hulle gaan die lewe oor geld en plesier, en nie oor die Here nie (v.8-12).  Hulle is slawe van sonde, en hou nie daarvan dat die Bybel vir hulle sê hoe hulle moet lewe nie – hulle wil self besluit (v.18, 20).  Hulle lewe asof daar nie ‘n oordeelsdag gaan wees nie (v.19).

 

Hulle is eiewys, sodat hulle hulle eie koppe volg (v.21).  Hulle aanvaar nie die raad van ander nie, of dit nou hulle ouers, ander gesagsfigure, of mense met meer lewenservaring as hulle is.  Jy sal hulle nie by ‘n sosiale geleentheid sien sonder ‘n glas wyn of sterk drank in hulle hande nie; hulle oë is gedurig rooi van al die drank (v.11, 22).  Hulle gee en vat omkoopgeskenke (v.23).

 

Ons kan seker nog baie ander sondes noem, maar die punt is eenvoudig dat hierdie mense nie vrug dra nie, omdat hulle nie deur geloof aan die Wingerd geheg is nie.  Hulle mag dalk uiterlik met Hom assosieer, maar innerlik vloei sy lewensap nie deur hulle nie (Jh.15:1-8).  Die Heilige Gees woon nie in hulle om die vrug van bekering te produseer nie (Gal.5:16-26).

 

Christus se woorde het nie diep wortels in hulle harte nie, en daarom kan hulle nie vrug dra nie (Jh.15:7).  Die Bybel verveel hulle, en gebed is nie ‘n gereelde deel van hulle lewens nie (Jh.15:7).  Wanneer die Boer hulle snoei, val hulle weg – hulle groei nie geestelik nie (Jh.15:2).

 

Omdat hulle dan vrugtelose ongelowiges is, sal God die takke van hulle lewens afbreek en dit in die vuur gooi (v.24, Jh.15:6).  Moet dan nie soos hulle wees nie, maar bekeer jou.  Vra dat die Heilige Gees deur wedergeboorte die saad van Christus se lewe in jou hart sal plant.  Glo dat Hy aan die kruis die wyn van sy bloed gestort het om jou sonde weg te was.  Spandeer dan die res van jou aardse en hemelse bestaan in soete gemeenskap met die Wingerd.

 

As jy dít doen sal jy nie vrugte dra wat uiterlik mooi lyk, maar van polystyrene gemaak is nie.  Die trosse van jou lewe sal so groot en swaar wees soos Num.13 se druiwe wat die spioene aan ‘n paal vasgemaak het om dit op hulle skouers te dra.  Die goeie vrugte wat jy dra sal die Vader verheerlik (Jh.15:8).

 

[1] Hedonisme verwys na mense wat vir plesier lewe.

[2] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.71

Die blydskap en vrede wat Jesus gee

peaceful

‘n Maand nadat ek klaar gemaak het met skool, het ek by die WIMPY gewerk. Die baas se humeur was so wispelturig en onstabiel soos Kaapstad se weer.  Ek onthou hoe hy een oggend by die restaurant aangekom het en ‘n vrolike deuntjie gefluit het.  Hy het gesien dat iemand by die winkel ingebreek het, en het soos ‘n matroos gevloek.  Sy vrede en blydskap het van die omstandighede afgehang.  Volgens Jh.16:16-33 hoef dit nie so te wees vir Jesus se dissipels nie.

 

Blydskap (v.16-24)

Ek het ‘n dokumentêr oor die blouwildebeeste se migrasie in die Serengeti gekyk. Die film het gewys hoe die Serengeti in die droëseisoen aan die brand slaan, asook hoe die vulkansiese Ol Doinyo berg ontplof en sy as oor die vlaktes strooi.  Aanvanklik is beide rampe nadelig vir die natuur.  Maar in die langduur stel dit sekere minerale in die grond vry, sodat die gras beter kan groei.

 

En so het Jesus se kruisdood en hemelvaart vir die dissipels gelyk of dit nadelig is. Maar die voordele wat daaruit voortgekom het, het vir hulle groot blydskap gebring.  Dit is wat Jesus in v.16-24 vir hulle verduidelik het.

 

Hy het vir die dissipels gesê: “‘n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer ‘n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan.” (v.16).  Wat het Hy bedoel?  Dit was maar ‘n paar ure voordat Hy gekruisig sou word en die dissipels Hom nie meer sou sien nie.  Maar na sy kruisdood was dit ‘n kort tydjie voordat hulle weer die lewende Christus gesien het.

 

Na 40 dae sou Hy teruggekeer het na die Vader toe, sodat hulle Hom nie meer gesien het nie. Maar kort daarna sou Hy die Gees op hulle uitgestort het, sodat sy werke deur die Heilige Gees sigbaar geword het.  En dan sou almal van hulle voor die einde van die eerste eeu in die hemel gewees het, en weer vir Jesus gesien het.

 

Die dissipels het nie verstaan wat Hy bedoel het nie; hulle was te bang om Hom hieroor te vra. In ‘n sekere sin wou hulle nie verstaan het dat Hy oppad was na die Vader toe nie – dit was vir hulle te hartseer (v.6, 14:1, 28).  Hulle het besluit om dit onder hulleself te bespreek (v.17, Lk.9:44-45, 18:31-34).    ‘Hoe lank is ‘n klein tydjie?’ het hulle gewonder (v.18).

 

‘Ek weet wat julle bespreek’ het Jesus in effek vir hulle gesê (v.19). ‘Julle is verward en bekommerd, omdat julle nie weet Ek bedoel het nie.  Wat beteken dit toe Ek gesê het dat julle My oor ‘n klein rukkie nie meer sal sien nie, en dan oor ‘n klein rukkie weer sal sien?’ (v.19).

 

Die dissipels sou oor die kruis getreur het (v.20, 20:11, 13, 19, 24-25, Mk.16:10, Lk.23:27, 48-49, 24:17), maar in hulle haat vir Jesus sou die wêreld hulle hierin verbly het (v.20, 7:7, 15:18, Mt.27:22-23, 25, 27-30, 35-44, 47, Lk.22:63-65). Die dissipels se droefheid sou egter in blydskap verander het, omdat Jesus uit die dood uit sou opstaan (v.20, 20:20, 21:7, Mt.28:7-10, Lk.24:31-35, Jer.31:13).

 

Hulle sou soos ‘n vrou in ARWYP se kraamsaal gewees het: die kraam- en geboortepyne is erg, maar wanneer die kind ‘n kort tydjie later gebore word, onthou sy nie eers die pyn nie (v.21).  Die nuwe klein mensie wat in die wêreld ingekom het, het die ma se pyn in blydskap laat verander (v.21).

 

Net so oortref die blydskap van nuwe lewe deur Jesus se opstanding die droefheid van die kruis (v.21-22, Jes.26:16-21). Niemand kon hierdie blydskap by die dissipels gesteel het nie, omdat dit in die lewende Christus gegrond was, en nie in hulle omstandighede nie (v.22).  Nie eers vervolging kon die vuur van blydskap in hulle harte geblus het nie (Hd.5:41, 16:25, 2 Kor.6:10, Fil.4:4).

 

Op die dag waarin Jesus die Heilige Gees en sy blydskap aan die dissipels gegee het, sou hulle nie meer verward gewees het en vrae gevra het nie (v.23). Hy het juis die Gees na hulle toe gestuur om hulle alles te leer (v.12-13).  As hulle iets wou geweet het, kon hulle Hom in gebed gevra het (v.23).  En wat hulle in sy Naam gevra het, sou die Vader vir hulle gegee het (v.23).  Tot op daardie stadium het hulle nie iets in sy Naam gevra nie, omdat Hy by hulle was en hulle Hom direk kon vra (v.24).  Maar nou moes hulle in sy Naam gebid het, sodat hulle deur hulle gemeenskap met Hom en sy antwoorde op hulle gebede, blydskap kon hê (v.24, 15:11).

 

Dit geld ook vir ons. In Christus kan ons ‘n blydskap hê wat bo ons omstandighede uitstyg.  Dit is ‘n blydskap wat die Heilige Gees vir ons gee (Hd.8:8, 13:52, Rm.15:13), ‘n blydskap wat niemand kan steel nie (v.22).  Om dit weg te vat moet die duiwel en mense die Here by jou kan wegvat, en dit kan nie gebeur nie.  Sonde kan maak dat jou blydskap vir ‘n tyd lank verdwyn.  Maar dan sal die Here jou tugtig, sodat jy jou kan bekeer en vergewe word, en jy weer die vreugde van sy verlossing kan ervaar (Ps.51:14).

 

Hoe kan jy hierdie blydskap behou? Heel eerste moet jy seker maak dat jy nie soos ‘n vrou is wat met ‘n man trou omdat hy geld het, of ‘n man wat met ‘n vrou trou omdat sy goed gebou is nie.  Moenie na Jesus toe kom vir die vreugde wat jy by Hom kan kry nie; moet Hom nie soos ‘n anti-depressant gebruik nie.  As jou groot doel is om blydskap te hê, sal jy dit nie kry nie.  Maar as dit jou doel is om in ‘n nabye verhouding met Jesus te lewe, sal blydskap deel van die pakket wees (v.24, 15:11).

 

Moet daarom nie alewig probeer om in jou hart te kyk of daar blydskap is nie. Om te veel introspeksie of selfondersoek te doen is nie goed nie, omdat jy dan op jouself fokus en nie op Jesus nie.

 

C.S. Lewis het gesê dat ons eerder deur geloof na die objek van ons blydskap moet kyk. As jy bv. na ‘n waterval kyk (het hy gesê) dan geniet jy dit en bring dit vir jou blydskap.  Maar sodra jy op die blydskap fokus om te sien of dit eg is en jy nie meer na die waterval kyk nie, dan verdwyn die blydskap.

 

En so is dit ook in ons verhouding met Jesus. Kyk na Hom en moenie ‘n obsessie met sy blydskap hê, sodat jy eintlik op jouself en jou gevoelens fokus nie.

 

As Hý jou fokus is sal jy met Hom aanhou, selfs wanneer jy nie op die bergtop is nie. En as jy só lewe is dit ook waar dat jy nie vir lank in die donker vallei sal wees nie.  Hy sal jou uitbring, sodat die son van sy blydskap op jou sal skyn.

 

Om gedurig hierdie blydskap te geniet moet jy in gemeenskap met die Here lewe (v.24). Maar om net die Bybel te lees is nie genoeg nie.  Iemand kan elke 6 maande deur die Bybel lees en nie die Here se blydskap ervaar nie, omdat hy dit bloot as ‘n literêre werk bewonder, en nie as ‘n liefdesbrief van sy Vader af nie.  Hy leef nie in ‘n verhouding met die Here nie.  Daarom moet hy die Woord in sy hart bêre en dit gehoorsaam (15:7-11).

 

Dit is ook nie genoeg om net te bid nie. Sommige mense bid baie, maar ervaar nie die Here se blydskap nie.  En hulle sal ook nie, omdat Hy nie hulle gebede beantwoord nie.  Hy antwoord nie hulle gebede nie, omdat hulle nie in sy Naam bid nie (v.23-24).

 

Wat beteken dit om in sy Naam te bid? Dit beteken dat jy besef die Vader sal jou verhoor omdat Jesus in jou plek staan, en nie omdat jy opreg was, lank genoeg gebid het, gevas het, tien mense gekry het om saam te stem, genoeg geglo het, dit uitgespreek het, of vir ‘n maand lank opgehou rook het en dit nou ‘pay back time’ is nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken ook dat jy nie vir dinge bid waarvoor Hý nie sou bid nie. Daarom moet jy vir die dinge bid wat Hy in die Bybel belowe het.  En as jy hiervoor bid, sal jy ontvang en sal jou blydskap volkome wees (v.24).  Jy sal bly wees omdat Hy so vrygewig is, en nie omdat jy ‘n nuwe speelding gekry het nie.  Jy mag vir dinge bid wat nie in Bybel staan nie, solank dit net nie teen die Bybel is nie.  Maar in sulke gevalle moet jy sê:  ‘Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.’ (Mt.26:39).

 

Vrede (v.25-33)

Toe ek uit Jh.13 oor Judas gepreek het, het ek van James Bainham vertel. Vandag wil ek iets byvoeg wat ek nie tóé gesê het nie.  Die Katolieke owerhede het vir Bainham met ‘n ketting aan die brandstapel vasgemaak.  Die stadsklerk het vir die laksman gesê om die biskruit aan die brand te steek.  Die vlam het baie gou nader gekom en binne ‘n paar minute die slagoffer se arms en bene weggebrand.

 

Bainham het egter aan sy Verlosser gedink en uitgeroep: ‘Behold! You look for miracles, you may see one here; for in this fire I feel no more pain than if I were on a bed of down [Afr. donsvere], but it is to me as sweet as a bed of roses.’[1]  Bainham het die Here se vrede in sy hart gehad, ‘n vrede wat Hy aan al sy kinders belowe het.

 

In hfst.14-16, asook in die res van sy lering het Jesus beeldspraak gebruik (v.25, 21, 15:1-8, Mt.13:10-17). Die dissipels het dit nie verstaan nie (2:22, 12:16, 13:7, Mt.13:36), maar deur die Gees sou Hy die Vader aan hulle mistige harte en gedagtes geopenbaar het (v.25, 12-13).  Om die Vader beter te ken kon hulle in Jesus se Naam met Hom gepraat het (v.26).  Dit was nie nodig dat Hy namens hulle moes vra omdat die Vader hulle vir onthalwe verdra het, soos wat ‘n vrou haar skoondogter vir haar seun se onthalwe verdra nie (v.26).

 

Nee, maar die Vader self het hulle liefgehad, en daarom kon hulle met vrymoedigheid na Hom toe gekom het (v.27, 3:16).  Hy het ‘n spesiale liefde vir dié wat glo dat Jesus van die Vader af gekom het, net soos wat ‘n man liewer is vir sy eie vrou en kinders as vir ander mense s’n (v.27-28, 14:21, 23).

 

‘Nóú verstaan ons U!’ het die dissipels vir Hom gesê (v.29). ‘Dit is beter as U nie in beelde praat nie, maar eenvoudige taal gebruik (v.29).  U voorspelling oor U toekoms by die Vader gee vir ons die versekering dat U alles weet, en dat U daarom regtig van God af kom (v.30, 13:19, 16:4, 21:17, 2:24-25, Jes.41:23, 42:9).  En as U alles weet hoef ons U nie te bevraagteken nie (v.30).’  Só moet ons die dissipels se woorde in v.29-30 verstaan.

 

Die dissipels het gedink dat dit nie meer nodig was om vrae te vra nie, omdat hulle Jesus se lering verstaan het (v.23, 29-30).  Jesus het egter vir hulle gewys dat hulle te vinnig gepraat het.  ‘Is julle seker dat julle nou in My glo?’ het Hy in v.31 vir hulle gevra.  ‘Die uur is hier dat almal van julle My gaan verlaat om in julle huise weg te kruip.  Julle sal soos skape uitmekaar spat wanneer die wolwe op hulle afstorm (v.32, Sg.13:7, Mt.26:31).’  Duidelik was hulle geloof in Jesus nie so sterk soos wat hulle gedink het nie.

 

Maar al het hulle Hom ook alleen gelos was Hy nie heeltemal alleen nie, omdat sy Vader met Hom was (v.32, 8:29). Die Vader sou vir ‘n tydjie sy guns onttrek het (Mt.27:46), maar aan die einde van sy lewe het Jesus gebid en gesê:  “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Lk.23:46).  Jesus het dan nie gejok toe Hy gesê het dat die Vader by Hom was nie.

 

En soos wat die Vader aan die einde van alles sy vrede aan Hóm gegee het, gee Hy dit ook aan ons (v.33, 14:27). Ons het dit veral nodig as ons in ‘n situasie soos die dissipels s’n is, waarin dit vir ons voel of die Here ons verlaat het (13:36).  Ons het dit nodig wanneer ons verward is en nie weet wat die Here besig is om te doen nie (v.19).  Ons het dit nodig wanneer die toekoms bleker lyk as wat ons besef het (v.32).  Ons het dit nodig wanneer ons diep bedroef is (v.6, 20).

 

Hoe kan ons in hierdie tye die Here se vrede ervaar? Om die vrede van God te hê, moet jy eers vrede met Hom hê.  En dit kan jy net kry as Hy die sonde wat verdeeldheid tussen jou en Hom gebring het, vergewe.  Hoe kan jou sonde vergewe word?  Hoe kan Hy jou sondeskuld afgeskryf?

 

Jesus het aan die kruis gesterf en sy Vader se straf oor ons sonde geabsorbeer, soos wat droë grond water absorbeer. As jy op Jesus vertrou om jou te red en in Hom glo, sal die Vader sy kruisdood in jou plek aanvaar en jou sonde afskryf.

 

Maar omdat daar nou vrede tussen jou en God is, sal die wêreld jou haat (15:18-21). Ons kan sê dat die wêreld se vervolging ‘n gegewe is (v.33, Hd.14:22).  Maar ons kan ook sê dat die vrede van God in ons harte ‘n gegewe is (v.33).  Ons hoef dan nie bang te wees as die wêreld probeer om die Christelike geloof soos ‘n kers dood te blaas nie.  Jesus het die wêreld deur sy kruisdood en opstanding oorwin, en daarom kan die wêreld nie suksesvol wees nie (v.33).

 

Omdat ons in Jesus glo is sý oorwinning oor die wêreld ook óns s’n (Rm.8:37, 1 Kor.15:57, 1 Jh.5:4-5, Op.3:21, 12:11). Dit beteken dat die wêreld ons nie by die Here kan wegvat, of ons erfdeel in die hemel kan steel nie.  Hoe sal hulle dit regkry as die Oorwinnaar, die Here, aan ons kant is (Rm.8:31)?

 

En tog kom die Here se vrede nie outomaties na ons harte toe nie. Ons moet die middele gebruik wat Hy tot ons beskikking gestel het:

 

  • Bid en wees dankbaar (Fil.4:6-7, 2 Ts.3:16, 1 Pt.5:7).
  • Leef in vrede met ander mense (Ef.4:3, Kol.3:15, Heb.12:14).
  • Wees lief vir die Woord en word met die Gees gevul (Ps.119:165, Gal.5:22).
  • Bewaar jou gedagtes en dink reg (Rm.8:6).
  • Bely jou sonde en bekeer jou daarvan (Rm.5:1, Kol.1:20).

 

Kan ek jou reguit vra of jy hierdie vrede het? Nee? Hoekom nie? Is dit omdat jy nog ongered is? Toe my swaer tot bekering gekom het, het hy gesê dat dit vir hom gevoel het soos ‘n las wat van sy skouers afval. Hy het vrede gehad, en jy kan dit ook hê as jy na Jesus toe kom.

 

Is jy gelowige wat nie die Here se vrede in jou hart ervaar nie? Is dit omdat jy nie jou probleme in gebed na die Here toe vat nie? Skeep jy miskien die Bybel af? Is daar ‘n sonde wat jou gewete pla? Moet jy miskien vrede maak met iemand? Maak reg wat verkeerd is.

 

As jy dít gedoen het sal jy nie net vrede hê nie, maar ook blydskap. “those who plan peace have joy.” (Sp.12:20, ESV).

 

[1] J.H. Merle d’Aubigne, The Reformation in England: vol.1, p.101

Die vrugtevolle lewe

grape-clusters

In die wêreld lewe mense vir rykdom, status, sukses, hulle kinders, ‘n goeie opvoeding, ander mense, hulle troeteldiere, vakansie, ontspanning, hulle toekomsplanne, aftrede en watookal anders. As hulle hierdie dinge bereik het, dan dink hulle dat hulle ‘n vol en vrugtevolle lewe gelei het.  Maar volgens Jh.15:1-17 kan net dié wat in Jesus glo ‘n vrugtevolle lewe hê.

 

Jesus se gelykenis (v.1-8)

‘n Gawe oom het laasweek en die vorige een vir ons ‘n boks perskes gebring.  Hy het vir my fotos gewys van sy ‘dooie’ perskeboom wat so baie vrugte dra, dat dit meer is as wat hy en sy liewe vrou kan gebruik.

 

‘As ek ‘n paar bokse vol gepluk het, dan lyk dit of ek nie eers ‘n duik in die boom gemaak het nie,’ het hy gesê. Klaarblyklik was die perskeboom nie dood nie, en het die takke nog meer as genoeg lewensap uit die boom se stam en wortels uit gekry.

 

En as ‘n half-gevrekte perskeboom se lewensap nog so baie vrugte kan voortbring, wonder ek hoe baie vrugte die gesonde Wingerd van Jesus kan voortbring? Natuurlik praat Jh.15 nie van sappige pers druiwe in jou mond nie, maar van die geestelike vrug van bekering.

 

Jesus en die dissipels het die bovertrek verlaat om na Getsemane toe te gaan (14:31). Dalk het hulle oppad by ‘n wingerd verbygeloop toe Jesus hierdie lering gegee het.  Jesus het gesê dat Hý die Ware Wingerd is en sy Vader die Landbouer (v.1).

 

Volgens die Ou Testament was Israel die Here se wingerd wat Hy geplant, gesnoei, bemes, versorg en beskerm het (Ps.80:9-10, Jes.5:2, Esg.19:10).  Hulle moes die soet vrug van bekering gedra het (Ps.80:9-12, Jes.5:1, 7, Jer.2:21, Esg.19:1, 10).  Maar instede daarvan het hulle die suur druiwe van sonde voortgebring (Jes.5:2, 4, 7).  Gevolglik het die Here sy wingerd aan haar vyande oorgegee:  vuur, droogte, die skroeiende oostewind, wilde varke, onkruid en dorings (Ps.80:14, 17, Jes.5:5-6, Esg.15:6-8, 19:12-14).

 

Uit die gebrande wingerd se stam het daar egter ‘n takkie gespruit (Jes.11:1): Jesus was die Ware Wingerd wat goeie en aanneemlike vrug voortgebring het (v.1, Ps.80:16, 18).  Die takke wat nie vrug gedra het nie was dus uiterlik aan Hom geheg, maar innerlik het die wingerd se lewensap nie deur hulle gevloei nie (v.2).  Judas en Israel was so, en daarom het die Landbouer hulle onder sy oordeel verwyder (v.2-3, 6, 13:10-11, 30, Jer.5:10, Mt.15:11, Lk.13:6-9, Rm.11:20).

 

Die ander takke was alreeds skoon deur die Woord van Jesus wat in hulle harte was (v.3, 1 Kor.6:11, Ef.5:26). Om hulle skoon te hou moes die Landbouer van tyd tot tyd die snoeiskêr van dissipline ingelê het, sodat hulle meer vrug kon dra (v.2, Heb.12:10-11).  Om aanhoudend vrug te dra, moes die takke deur geloof in die Wingerd gebly het (v.4, 14:20, Fil.1:11).  Geen tak wat van die Wingerd se lewensap verwyder was kon die vrug van bekering gedra het nie (v.4-5).  Sonder die Wingerd was die takke dood:  sonder Jesus kon die dissipels niks gedoen het nie (v.5).  Hulle lewe het van Hom af gekom (17:2-3).

 

Dié wat nie deur geloof in die Wingerd gebly het nie, is weggegooi en het soos dooie takke verdor (v.6). Die hout van hierdie takke was nie eers geskik vir waspennetjies of meubels nie, en het daarom in die vuur van God se oordeel beland (v.6, Esg.15:3-6, Mt.3:10, 7:19, 13:40-42, Op.20:15, 21:8).  Om vrug te dra moes die takke dan in die Wingerd gebly het en sy woorde in hulle harte bewaar het (v.7a).  As hulle dít gedoen het, kon hulle volgens sy woorde vir hulp gevra het om die vrug van bekering te dra (v.7b).  Die swaar trosse van bekering sou gewys het dat hulle ware dissipels van Jesus is (v.8b).  En tog was die dissipels se vrugtevolle lewens nie sentraal nie; die verheerliking van die Landbouer as die beste Wynboer in die heelal was (v.8).

 

Jesus se gebod (v.9-17)

‘n Sekere Prof. Sam van Aken van Syracuse Universiteit in die V.S.A. het deur ‘n proses van inenting ‘n boom gekweek wat 40 verskillende soorte vrugte dra: perskes, pruime, appelkose, kersies, amandels en nog 35 ander soorte.[1]

 

Dié boom illustreer vir ons iets van Jesus en sy kinders, omdat ons deur ons eenheid met Hom verskillende soorte vrugte dra. In Gal.5:22 gee Paulus vir ons die name van nege soorte, en in Jh.15 het ons ‘n beskrywing van verskeie soorte geestelike druiwe wat aan een Wingerd groei.

 

Om die vrug van bekering te dra moet ons in Jesus se liefde bly (v.9). Ons moet besef dat Hy ons liefgehad met dieselfde liefde waarmee die Vader Hóm liefgehad het (v.9).  In reaksie hierop moet ons Hom ook aanhoudend liefhê (v.9, 1 Jh.4:19).  Ons moet dit bewys deur sy gebooie te bewaar, net soos wat Hy die Vader se gebooie bewaar het (v.10, 14:15, Fil.2:8).  Ons gehoorsaamheid is nie ‘n vreugdelose onderhouding van wette nie, maar bring die diep en volkome blydskap van Jesus na ons harte toe (v.11, 17:13, 1 Jh.1:4).

 

Ons gehoorsaam ook nie uit vrees vir die hel nie (v.6), maar uit liefde vir God en ons naaste (v.12, 13:34-35). Jesus se liefde moet die patroon wees waarvolgens ons mekaar liefhet (v.12).  Hy het sy lewe vir sy vriende gegee (v.13, 10:11), en net so moet ons bereid wees om ons tyd, geld en lewens vir mekaar te gee (v.12, 1 Jh.3:16).

 

Wie is Jesus se vriende vir wie Hy sy lewe afgelê het? Dit is dié wat, soos Abraham, hulle liefde bewys deur te doen wat Hy vir hulle sê (v.14, Jk.2:23).  ‘Hierdie gehoorsaamheid is nie wat van hulle vriende maak nie; dit is eerder die kenmerk van sy vriende.’[2]  In een opsig kan ons sê dat die dissipels Jesus se diensknegte was wat hulle aan die Meester onderwerp het (v.20).  Maar in ‘n ander opsig was hulle meer soos vriende met wie Hy die Vader se geheime gedeel het (v.15, Mk.4:11, Gn.18:17, Jes.41:8, Eks.33:11, Ps.25:14, Am.3:7).

 

In Jesus se tyd het dissipels vir hulleself ‘n rabbi gekies, en nie andersom nie.[3]  Maar in die geval van Jesus en sy dissipels was dit anders. het die vriendskap geïnisieer en nie hulle nie.  Daarom het hulle geen rede gehad om hoogmoedig te wees toe Hy hulle sy vriende genoem het nie.  “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (v.16).

 

Hy het hulle spesifiek uitgekies om vrug te dra (v.16). Let ook op dat Hy hulle aangestel het om vrug te gaan dra (v.16).  Hy het hulle dus geroep en uitgestuur om evangelie-predikers te wees (v.16, 1 Tm.1:12).  Die vrug in hierdie vers verwys dan na ware bekeerlinge wat nie later weer wegval nie (8:31, Rm.1:13, Kol.1:6).  Vroeër in hierdie hoofstuk het die vrug verwys na die dissipels se gehoorsaamheid (v.10), liefde en vreugde (v.11-12, Gal.5:22).

 

Om die verskillende soorte vrug te dra moes die dissipels gebid het (v.16). Hulle moes in Jesus se Naam gebid het:  op grond van sy kruisdood en inlyn met sy Woord (v.16, 7, 14:13-14).  Die Vader sou hulle geantwoord het, sodat hulle die vrug van gehoorsaamheid, Christelike karakter en ware bekeerlinge gedra het (v.16).  Die vrug van onderlinge liefde het egter kop en skouers bo die res uitgestaan (v.17).

 

Hoe lyk die vrug in jou lewe? Is dit suur, omdat daar sonde is wat jy nie wil los nie?  Is dit smaakloos, omdat jy nie doen wat die Here vir jou sê nie?  Het dit ‘n verrimpelde skil, omdat jy nie ernstig is om Christelike kwaliteite na te jaag nie?  Het dit steek- en kneusplekke, omdat jy nie die evangelie met ander deel nie?  Verheerlik die vrug in jou lewe die Vader (v.8)?

 

Wat moet jy doen om volop vrug te dra, en om goeie vrugte te dra?  Jy moet een wees met die Wingerd, omdat jy sonder Hom niks is, het of kan doen nie (v.4-5).  Enige seën wat jy ervaar word in Hom en ter wille van Hom aan jou gegee (Ef.1:3).  Let op hoe die volgende dinge in Hom is:

 

[1] Heiligmaking (v.2-3, 1 Kor.1:30).

[2] Antwoorde op gebed (v.7, 16).

[3] Sekerheid van redding (v.8).

[4] Liefde (v.9-10).

[5] Vreugde (v.11).

[6] Uitverkiesing (v.16, Ef.1:4).

[7] Geregtigheid (1 Kor.1:30).

[8] Wysheid (1 Kor.1:30).

[9] Verlossing (1 Kor.1:30, Ef.1:7).

[10] Vergifnis (Ef.1:7).

[11] Genade (Ef.1:7).

[12] Jou erfdeel in die hemel (Ef.1:11).

[13] Verseëling met die Heilige Gees (Ef.1:13).

[14] Jou dood (1 Kor.15:18).

[15] Lewe in jou siel en in jou opstandingsliggaam (Rm.6:11, 23, 1 Kor.15:22, 2 Kor.5:17).

[16] Lyding en vertroosting (2 Kor.1:5).

[17] Vryheid van sonde (Gal.2:4).

[18] Aanneming in God se huisgesin (Gal.3:26).

[19] Christelike eenheid (Gal.3:28).

[20] Goeie werke (Ef.2:10).

[21] Hoop op ‘n heerlike toekoms in die hemel (Ef.2:6-7).

[22] Goddelike vrede en rykdom (Fil.4:7, 19).

[23] Geestelike volwassenheid (Kol.1:28).

[24] Geloof (1 Tm.1:14).

[25] ‘n Godvresende lewe (2 Tm.3:12).

[26] God se kosbare beloftes (2 Kor.1:20).

 

Omdat al hierdie dinge in Christus is, is dit belangrik dat jy in Hom moet wees.  En om in Hom te wees moet jy in Hom glo.  Jy moet glo dat jy niks kan doen om God se guns te wen nie, maar dat jy alleenlik op grond van Jesus se Persoon, kruisdood en opstanding aanneemlik kan wees voor God (3:16, 2 Kor.5:21, Fil.3:9).  Om in Hom te wees moet Hy in jou wees (v.5):  “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.  En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Gal.2:20).

 

Lewe jy in Jesus en Hy in jou? Is jy ‘n tak wat swaar dra, sodat die vrug in jou lewe amper op die grond hang?  Wil jy nie so wees nie, sodat God in jou verheerlik kan word en jy sy liefde en blydskap in jou hart kan hê nie (v.8-11)?

 

Om dit reg te kry moet jy sy dissipline in jou lewe aanvaar en nie teen Hom rebelleer omdat Hy jou ‘seermaak’ nie (v.2). Jy moet onthou dat ‘die Landbouer nooit nader aan die wingerd is as wanneer Hy dit snoei nie.’  Aanvaar dan die Here se dissipline met dié wete dat Hy vir jou is, en dat Hy jou belange op die hart dra.

 

Om vrug te dra moet Jesus se woorde in jou wees (v.3, 7). Jy moet dit glo, lees, hoor, daaroor nadink en dit gehoorsaam (v.9).  Vandag is daar mense in die kerk wat nie vrug dra nie, omdat hulle nie in die Bybel belangstel nie.  Hulle hou nie van sterk Bybelse prediking nie, maar verkies motiverende boodskappe wat hulle lekker laat voel.  Hulle lees ook nie graag die Bybel nie, maar soek eerder sentimentele dagstukkies op hulle selfone (solank dit nie meer as twee minute van hulle tyd steel nie).  Onder die mense wat van goeie preke hou en dit geniet om in die Bybel in te delf, kry jy sommige wat hoor maar nie doen nie.  En juis daarom dra hulle nie vrug nie.

 

Iemand wat ‘n vrugtevolle lewe soek moet daarvoor bid (v.7, 16). Sonder getroue gebed sal jy nie gehoorsaamheid, groei, Christelike karakter en bekerings sien nie.  As die Here dit sonder gebed vir jou gegee het, sal jy Hom nie daarvoor prys nie maar dink dat dit gedoen het.

 

Ek wil jou aanspoor om gereed vir hierdie dinge te bid. Bid dat die Here Gal.5:22 se vrug van die Gees in jou hart en lewe sal laat groei.  Deursoek die begin van Paulus se briewe en bid sy gebede vir jouself en vir ander.  Oor ‘n jaar of twee sal jy en die mense om jou verbaas wees oor hoe baie jou lewe verander het.  Die Here sal ook ‘n plesier daarin hê (v.8).

 

Maar as jy nié vir jou geestelike groei bid nie, sal jy soos sommige kerkmense wees wat na 20 of 30 jaar nog net so onvolwasse is soos die dag toe hulle by die kerk aangekom het. Hulle Bybelkennis het nie verdiep nie, hulle liefde vir die Here en sy kinders is flou, hulle het nie ‘n begeerte vir gehoorsaamheid nie, en hulle het nog nooit iemand na die Here toe gelei nie.  ‘n Mens wonder of hulle gered is.  Is hulle nie miskien soos Judas nie:  as lidmate van die kerk het hulle uiterlik deel aan die Here, maar innerlik is Christus se lewe nie in hulle nie (v.2, 6)?

 

Dit is dan ook hoekom hulle nie vrug dra nie (v.2). En op die einde is hulle soos Judas wat van die Here en sy liggaam af wegdraai (13:30).  Hulle stel nie belang in Christus en sy kerk nie.  Hulle name is op die lederol van die kerk, maar hulle dien nie die Here in die gemeente nie.  Hulle is die soort mense van wie nuwe en toegewyde gelowiges vra:  ‘Wie is so-en-so:  ek het hulle foto in die boekie gesien, maar ek het hulle nog nooit by die kerk gesien nie?’  Van sulke mense sê 1 Jh.2:19:  “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.”

 

Ware gelowiges is nie so nie – hulle bly in Jesus en val nie weg nie (v.4, Kol.1:23, Heb.3:6, 14).  Omdat hulle sy vriende is, doen hulle wat Hy vir hulle sê (v.14).  Om dan in Jesus te bly en vrugtevol te lewe is nie ‘n mistiese ervaring waarin jy met jou kop in die wolke loop en nie meer bewustelik sondig nie.  Ons glo nie in die Keswick-beweging se ‘higher life’ teologie, waarin ‘n mens passief in Jesus bly en nie aktief iets doen om vrug te dra nie.  Die Bybel leer dat jý die vrug moet dra, maar dat dit Jesus is wat dit in jou doen.  Dit is ten minste hoe Paulus dit verstaan het:  “werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Fil.2:12-13).  As jy dit nie só doen nie, sal jy nooit ‘n vrugtevolle lewe lei nie.

 

[1] https://www.youtube.com/watch?v=ik3l4U_17bI

[2] Vry vertaal uit D.A. Carson, The Gospel According to John, p.522

[3] G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.493

Gemengde gevoelens oor Jesus

like-and-unlike

Nie almal voel dieselfde oor Jesus nie. Party mense is lief vir Hom en aanbid Hom.  Ander ignoreer Hom en wil niks met Hom te doen hê nie.  Ander knik hulle koppe vir Hom, maar doen in elk geval hulle eie ding.  Ander haat Hom en maak planne teen Hom.  Ander neem aanstoot as hulle sy Naam hoor.

 

Niemand staan neutraal nie. Wanneer dit by Jesus kom voel elke mens iets.  Selfs dié wat nie sy Naam ken nie is rebels teen hulle Skepper.  In Jh.11:55-12:11 is daar gemengde gevoelens oor Jesus.  Die meeste van ons kan onsself met een van hierdie karakters vereenselwig.

 

Die Jode (11:55-56, 12:9)

Elke jaar is daar ‘n Paaskonferensie te Cornelia in die Vrystaat. Sommige mense kom nog voor die konferensie by die kampgronde aan om alles reg te kry.  As die kampgangers opdaag is alles gereed.  So was dit ook in Jerusalem voor die Paasfees.  Volgens die wet moes die volk hulleself vir die Fees voorberei het.

 

Baie mense het van die platteland af opgegaan Jerusalem toe om die Fees by te woon (11:55). Hulle moes omtrent ‘n week voor die tyd al daar gewees het om hulleself te reinig.  As hulle bv. met heidene gemeng het of aan ‘n familielid se lyk gevat het, moes hulle gereinig word (18:28, Nm.9:6, 19:11-12, 2 Kron.30).  Dit is ironies dat baie van die Jode uiterlik rein was, maar innerlik onrein met sonde (Mt.23:25-28).

 

Toe die mense in Jerusalem aangekom het, het hulle vir Jesus gesoek (11:56, 7:11). Wat dink jy?’ het een persoon vir die ander een gesê.  ‘Sal Hy enigsins die Fees bywoon?’ (11:56).  Hulle het seker geweet dat die Joodse Raad van plan was om Hom te arresteer (11:57, vgl. 7:30, 32, 44, 8:59, 10:31, 39).  Sou Jesus dit gewaag het om by die Fees op te daag?  As hulle maar net geweet het dat Hy beplan het om by hierdie Fees aan die kruis te sterf.

 

‘n Klomp Jode het gehoor dat Jesus in Betanië was en het dadelik daarheen gegaan (12:9). Soos die Jode in 11:45, het hulle op grond van die opstanding van Lasarus geglo dat Jesus die Seun van God en die Messias is (12:9, 18, 20:30-31).  Hulle wou vir Jesus gesien het, maar hulle wou ook vir Lasarus gesien het (12:9, 10:38).

 

Ons moenie soos party van die Jode wees en onsself net uiterlik reinig nie (11:55). Ons moet seker maak dat ons innerlik rein is.  Hoe doen jy dit?  Wanneer mense sonde doen en skuldig voel, probeer hulle soms om daarvan ontslae te raak deur arm mense te help, geld vir die kerk te gee of ander goeie dinge te doen.  Maar volgens Heb.10:4 kan geen offer die mens se hart reinig nie.  Ons kan onsself ook nie rein maak deur dinge soos wyn, sigarette of vark tjops te vermy nie (Mk.7:18-19, Kol.2:21).

 

Om rein te wees moet jy in Jesus glo (Hd.15:9). Dit is immers sy bloed wat ons harte rein maak (1 Jh.1:7, Tit.2:14, Heb.9:14).  Om ‘n rein hart te hê moet ons ons sonde bely en daarmee ophou (1 Jh.1:9, Jk.4:8-10).  Die nagmaal moet ons veral hieraan herinner (1 Kor.11:28).  As ons die Woord van God lees en oordink sal dit ons verkeerde denke regstel en vir ons wys hoe om rein te lewe (17:17, Ps.119:9, 11, Ef.5:26, Fil.4:8, 1 Pt.1:22).

 

Die Here sal ons ook beproef en tugtig, sodat ons rein kan wees (1 Pt.1:6-7, Heb.12:10-11). Hy sal selfs toelaat dat ons struikel, sodat ons ons kan bekeer en rein kan wees (Dn.11:35).  Om rein te wees moet ons mense vermy wat ons met sonde wil besmet (2 Kor.6:14-7:1, 1 Tm.5:22).  Laastens moet ons met verlange uitsien dat Jesus weer kom.  As ons dit doen, sal ons nie onrein voor Hom wil wees nie, maar rein (1 Jh.3:3).

 

Die Raad (11:57, 12:10-11)

Ek het in die afgelope week lelike e-posse gekry (‘hate mail’), waarin mense my as ‘n vals profeet bestempel het. Ek het op ‘n baie mooi manier vir die persone gevra of ek iets gesê het wat met die Bybel bots.  Hulle het emosioneel geraak en gesê dat ek blind is en dat God my moet vergewe.  Hulle het nie uit die Skrif uit gewys hoekom ek verkeerd is nie, en het ook glad nie die tekste beantwoord wat ek vir hulle gestuur het nie.

 

Die owerpriesters het dieselfde met Jesus gedoen. Hulle kon nie sy wonderwerke ontken het nie, en het toe besluit om vir Jesus en Lasarus dood te maak.

 

Die owerpriesters en Fariseërs het vir die volk ‘n bevel gegee: as enige van hulle geweet het waar Jesus was, moes hulle die Raad laat weet het, sodat hulle Hom kon arresteer (11:57).  Die Raad het geweet dat daar baie gewillige hande en haatdraende harte was (11:47).

 

Die owerpriesters was jaloers, omdat baie van die Jode nie meer agter hulle aangeloop het nie, maar in Jesus geglo het (12:11, 11:45, vgl. Mk.15:10). Die nuus dat Jesus vir Lasarus uit die dood uit opgewek het, het soos ‘n veldbrand versprei (12:9, 11).  Die owerpriesters wou dus nie net vir Jesus doodgemaak het nie (11:53), maar ook vir Lasarus (12:10).  Duidelik het hulle nie daaraan gedink dat Jesus weer vir Lasarus uit die dood uit kon opwek nie.

 

Onthou dat die meeste van die owerpriesters Sadduseërs was, en dat hulle die opstanding van die dooies ontken het (Mt.22:23, Hd.23:8). Maar omdat hulle nie teen die opstanding van Lasarus kon stry nie, wou hulle stilletjies van die bewyse ontslae geraak het (12:10).

 

As jy die Here vrees en heilig wil lewe sal mense jou haat (2 Tm.3:12). Jy sal nie net een vyand hê nie, maar baie (11:57).  Jy sal selfs mense hê wat dit as hulle plig beskou om die lewe vir jou moeilik te maak.  Een van die persone wat die lelike e-posse vir my gestuur het, het my verseker dat hy vir soveel mense as moontlik gaan laat weet dat ek ‘n vals profeet is.

 

Mense sal dan nie net probeer om jóú in die wiele te ry nie; hulle sal ook probeer om dít wat jy vir die Here gedoen het te vernietig (12:10).  Hulle sal ‘n persoonlike vendetta hê teen almal wat ‘n goeie woord van jou te sê het (12:10-11).  Hulle sal bose planne teen jou maak, omdat die haat en jaloesie soos wurms in hulle harte broei.

 

As dit gebeur moet jy onthou dat hulle jóú nie eintlik verwerp het nie, maar vir Jesus (1 Sm.8:7, Lk.10:16).  Het jy gedink hulle gaan die Meester verwerp en nie ook sy volgelinge nie (Mt.10:24-25)?  Sorg net asseblief dat jy die vervolgde is, en nie ‘n vervolger van God se kinders nie.  As jy daarmee besig is en jouself ‘n Christen noem, is jy waarskynlik kop in een mus met die Joodse Raad.

 

Maria (12:1-3, 7)

Megan weet dat Steve baie van seëls hou. Vir sy verjaarsdag gaan sy na ‘n pantjieswinkel toe.  Daar sien sy ‘n swart en grys seël wat R1000 kos.  Sy het ‘n vermoede dat hy baie daarvan sal hou en is bereid om die geld uit te haal.  Toe sy die seël vir hom gee, het sy oë amper uitgeval.

 

‘Waar het jy dit gekry?’ vra hy. ‘Dit is ‘n Penny Black – een van die duurste seëls ter wêreld!’  Duidelik het man by die pantjieswinkel dit nie geweet nie.  Megan self het nie besef watse groot geskenk sy vir Steve gee nie.  En so was dit met Maria en Jesus.

 

Ses dae voor die Paasfees het Jesus van Efraim af na Betanië toe gekom (12:1, 11:54). Efraim was omtrent 20 km noord van Jerusalem, en Betanië minder as 3 km oos van die hoofstad af.  Dit was nie vir Jesus nodig om Jerusalem toe te gaan om Homself vir die Paasfees te reinig nie, en dus het Hy Betanië toe gegaan.

 

Volgens die ‘daarom’ in 12:1 [Gk.], is daar nóg ‘n rede hoekom Hy Betanië toe gegaan het. Jesus het geweet die Raad wil Hom doodmaak (11:57).  Hy wou nie gehad het dat hulle Hom voor die Fees moes arresteer nie, omdat Hy volgens God se plan tydens die Fees moes gesterf het.

 

Jesus se vriende in Betanië het vir Hom ‘n ete gehou (12:2). Miskien was dit om dankie te sê vir wat Hy in hfst.11 vir Maria en Marta gedoen het.  Volgens Mk.14:3 het hulle dit by Simon die melaatse se huis gehou.  Saam met Jesus en sy dissipels was Maria, Marta, Lasarus en dalk nog ‘n paar ander vriende daar.

 

Soos in Lk.10:40 het Marta gedien (12:2). Die eindste Lasarus wat in hfst.11 begrawe was en weer opgestaan het, was saam met Jesus aan tafel (12:2).  Ons moet onthou dat hulle nie by die tafel gesit het soos ons nie.  Die tafels was laag en daarom het mense op een elmboog by die tafel gelê, terwyl hulle hulle bene en voete na die kant toe uitgestrek het.  Juis daarom kon Maria maklik Jesus se voete gesalf het (12:3, vgl. 11:32, Lk.10:39).

 

Alhoewel Maria se salf net 327 gram geweeg het, was dit onbekostigbaar duur (12:3, 5). Dit was van egte nardus olie gemaak (12:3).  Die nardusplant groei in die Himalayas van noord-Indië.  Die blom lyk soos ‘n klein speldekussing vol van kopspelde.  Die olie word van die plant se blom en wortels gemaak.[1]

 

Maria het die olie in ‘n albaste fles gehou (Mk.14:3). Sy het die fles se seël gebreek en die salf oor Jesus se voete gegooi (12:3, Mk.14:3).  Volgens Matteus en Markus het sy dit oor sy kop ook gegooi (Mt.26:7, Mk.14:3).  Dit blyk dan dat sy Hom van kop tot tone met die olie gesalf het.  Hy is immers die ‘Gesalfde’.

 

Nadat sy Jesus se voete gesalf het, het sy dit met haar hare afgedroog (byna soos die vrou in Lk.7:37-38). Die soet geur van die salf het die huis gevul (12:3).  Dit was ‘n prentjie van Maria se daad van liefde en toewyding wat oral in die wêreld vertel sou word (Mk.14:9).  Sonder dat sy dit geweet het, het Maria Jesus se liggaam vir sy begrafnis gesalf (12:7, vgl. 19:39).

 

Ons kan baie by Maria leer. Sy het nie die salf teruggehou omdat dit duur was nie; sy het haar beste vir Jesus gegee.  Soos Maria moet ons bereid wees om dít te gee wat vir ons baie kosbaar en spesiaal is.  Wanneer ons vir die Here gee moet ons nie ons tweede beste gee, of net gee as ons dit kan bekostig nie.  Ons moet ons beste gee.

 

Ons moenie net ons geld gee nie, maar ook ons tyd en ons lewens (Rm.12:1). Miskien het jy nie geld nie.  Wat hét jy om vir die Here te gee?  Kan jy jou kar, kennis, talente en vaardighede, huis of enigiets anders in die Here se diens gebruik?  Hoe beplan jy om dit te doen?  Is dit miskien ‘n nederige taak wat jy moet doen?  Onthou dat Maria Jesus se voete gesalf het (12:3, hfst.13).

 

Maria was nie skaam om die Here te dien nie. Teen die gebruik van die tyd het sy haar hare losgemaak om Jesus se voete af te droog.[2]  Sy het nie omgegee wat die ander van haar dink nie, maar was bereid om alles te gee – selfs haar reputasie.  Is jy bereid om dieselfde te doen?

 

Of sal jy nie dinge vir Jesus te doen as dit jou reputasie gaan kos nie? Kry jy skaam om vir iemand ‘n traktaatjie te gee?  Is dit vir jou te radikaal as ‘n ander Christen by jou werk lofliede fluit, bid, ‘n Bybel op sy lessenaar het, of vir ander van Jesus vertel?  Pla dit jou as jou kollegas uitvind dat jy ‘n Christen is?  Moet jou nie vir die Here skaam nie, maar wees toegewyd soos Maria.

 

Laat jou liefde en toewyding aan Jesus soos die nardusolie se geur wees wat die huis gevul het. Hy sal dit nie vergeet nie, maar sal sê dat jy ‘n mooi ding vir Hom gedoen het (Mt.26:10).  Selfs in die verre toekoms sal dit wat jy gedoen het vir ander ‘n voorbeeld wees (Mk.14:9).  Tog fokus ons nie op wat ons vir die Here doen nie, maar op wat Hy vir ons gedoen het in sy kruisdood en opstanding (Mt.20:28, Lk.10:38-42, 1 Jh.4:19).

 

Judas (12:4-8)

Daar is ‘n storie van ‘n bankbestuurder wat aan die einde van elke dag al die kliënte se geld in sý rekening inbetaal het, sodat hy die rente kon kry. Elke oggend het hy vroeër ingekom om die geld terug te betaal.  Na ‘n paar dekades het hy baie ryk geword.

 

Toe hy afgetree het, toe koop hy vir homself ‘n paleis van ‘n huis. Mense het snuf in die neus gekry, die saak ondersoek, en uitgevind dat hy die geld gesteel het.

 

Judas was so. Hy het geweet hoe om met geld te werk en kon dit maklik laat verdwyn het sonder dat die res dit agtergekom het.  Maar uiteindelik het dit hom ingehaal.

 

Judas Iskariot was glad nie gelukkig oor wat Maria gedoen het nie (12:4). ‘Ons kon die salf vir 300 pennings [Gk. dēnarion] verkoop het en die geld vir die armes gegee het,’ het hy gesê (12:5).  Een pening was ‘n dag se loon vir ‘n gehuurde werker (Mt.20:2).  As ons die Sabbat en ander heilige dae aftrek, is 300 pennings ‘n volle jaar se salaris vir ‘n dag loner.  In vandag se terme is dit R36 000.

 

As Judas se motiewe suiwer was, kon ons nog probeer het om sy punt in te sien. Maar dit was nie.  Hy het nie omgegee oor die armes nie.  Hy het die dissipels se beursie gehad en het dikwels sy hand in die ‘koekieblik’ ingesteek om geld te steel (12:6, 13:29).  In 12:5-6 sien ons dat hy skynheilig, oneerlik en gevoelloos was.  Hy was ‘n duiwel (6:70-71).

 

Toe Judas se planne nie uitgewerk het nie, het hy dadelik na die Fariseërs toe gegaan om vir Jesus aan te gee. Hy was tevrede met die 30 stukke silwer wat hulle vir hom aangebied het, en het ‘n geleentheid gesoek om vir Jesus aan hulle oor te lewer (12:4, Mt.26:14-16).

 

Jesus het vir Judas gesê om vir Maria uit te los (12:7, 5-6). Dit was nie dat Jesus nie vir die armes omgegee het nie, maar eerder dat daar in die toekoms baie geleenthede sou wees om die armes te help (12:8, Mk.14:7, Dt.15:11).  Jesus was oppad na sy Vader toe, en daarom was hierdie Maria se laaste kans om iets mooi vir Jesus te doen (12:7-8, Mk.14:8).

 

Om ryk te wees is nie sonde nie, maar om dit te begeer is. Hierdie begeerte het al baie mense se kele afgesny.  Dit het al gemaak dat mense hulle rûe op die Here raai (Tm.6:9-10).  Pasop dan dat jy nie liewer raak vir geld as vir die Here nie; dat jy nie meer vir hierdie wêreld leef as vir die volgende nie.

 

Geldgierigheid sal maak dat jy skynheilig en oneerlik is soos Judas. Jy sal máák of jy ander wil help, terwyl jy eintlik net die geld vir jouself soek (12:5-6).  Party ryk mense is soos Hollywood sterre en gee vir liefdadigheid (12:5).  Dit is egter nie dieselfde as om Jesus lief te hê nie (12:3).

 

Dis nie verkeerd om ryk te wees nie, maar sorg dat jy jou rykdom gebruik om die Here se werk te bevorder en om ander te help. Gee geld om Bybels na ander Afrika lande toe te stuur.  Koop R10 000 se teologiese boeke vir ongeskoolde predikante in Malawi.  Ry ‘n ou bakkie, sodat jy ‘n sendeling kan ondersteun of ‘n arm Christen se skoolfondse kan betaal.  As jy dit doen sal jy skatte in die hemel hê (1 Tm.6:17-19).  Die skatte wat jy hier het sal vergaan.  Maar die skatte wat jy in die hemel het kan in alle ewigheid nie verlore gaan nie (Mt.6:19-21).

 

Martie se man het sy nukke. Sy is ontevrede met hom, en dagdroom oor ‘n man wat liefdevol, sagmoedig en romanties is, ‘n man wat haar op die hande dra.  In haar verbeelding skep sy vir haar ‘n ander man as die een met wie sy regtig getroud is.  Sy raak lief vir hierdie man en leef nie meer in die realiteit van haar onvolmaakte huwelik nie.

 

Ons kan dit met Jesus ook doen (nie dat Jesus nukke het soos Martie se man nie). Ons kan vir onsself ‘n Jesus skep wat nooit nee sê nie; ‘n Jesus wat bestaan om ons gelukkig te maak; ‘n Jesus wat nie omgee as ons sonde doen nie.  Ons moet versigtig wees dat ons nie later ‘n ander Jesus liefhet, terwyl ons die ware Een verag nie.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder ‘spikenard’

[2] Leon Morris, The Gospel According to John, pp.567-577

Is jy ‘n ware dissipel?

Are you a true disciple

Ons bediende het eenkeer vir my vrou gevra of ons wedergebore Christene is. My vrou het ja gesê.  Ons bediende het gesê dat hulle gewone Christene is, en dat hulle nie weergebore is nie.  Ander mense sê weer dat hulle Christene is, maar nie dissipels nie.

 

Maar volgens die Bybel is Christen, dissipel en weergebore persoon sinonieme terme. Jy kan nie een wees sonder dat jy ook die ander is nie.  Wanneer ek vra of jy ‘n ware dissipel is, vra ek eenvoudig of jy weergebore is, of jy ‘n Christen is.  Om die vraag te beantwoord moet jy jouself aan Jh.8:31-59 meet.

 

Waarin volhard jy (v.31-38)?

Oor ‘n tydperk van 14 jaar in die bediening het ek al met ware en valse dissipels te doen gekry.  Ware dissipels volhard in die Woord.  Hulle wil dit beter ken en probeer om dit toe te pas.  Hulle onderwerp hulle daaraan.  Hulle sit onder die gereelde prediking van die Woord.  Soos wat die maande in jare en dekades verander, groei hulle.  Hulle val partykeer, maar sak nie uit nie.  Hulle staan op en volhard.

 

Vals dissipels sit vir ‘n paar maande onder die Woord, maar sak dan uit. Jy moet hulle lek om by die kerk te wees, omdat hulle nie ‘n aptyt vir die Woord het nie.  Vir ander is die Woord in hulle koppe, maar nie in hulle harte nie:  hulle doen nie wat dit sê nie.  As jy na hulle lewens kyk is daar ‘n patroon van volhardende sonde.  Soos die Jode in v.31 het hulle ‘n vals geloof.

 

Dit is dié wat in die Woord volhard het, wat ware dissipels was (v.31, 30). Deur die Woord het hulle die waarheid leer ken (v.31-32, 17:17).  Hierdie waarheid het hulle vrygemaak, sodat hulle die duiwel se leuens kon uitken en dit nie vir soetkoek opeet nie (v.32).

 

Volgens die Jode was hulle Abraham se kinders; God se uitverkore volk (v.33). As hulle dan niemand se slawe was nie, was dit nie nodig om bevry te word nie (v.33).  Jesus het gewys dat hulle, soos die res van die mensdom, slawe van hulle sonde was (v.34).  Anders as ware dissipels wat in die Woord volhard het (v.31), het hulle in hulle sonde volhard (v.34).

 

Omdat die vals dissipel ‘n slaaf van sy sonde is (v.34), kan hy nie ‘n seun van God wees of die Koninkryk as erfdeel verkry nie (v.35). Soos Hagar en Ismael moet hy die huis verlaat (v.35, Gn.21:10, Gal.4:30).  Jesus is die Seun en daarom ook die erfgenaam van alles (v.36, Heb.1:2).  Hy het die mag om ons vry te maak en sy erfporsie met ons te deel (v.36).

 

Die Jode se moordlustige gedagtes teen Jesus het gewys dat hulle slawe van sonde is (v.37, 5:18, 7:1, 25, 30, 32, 44, 8:6, 59). Hulle natuurlike verwantskap met Abraham kon hulle nie red nie (v.37) – net Jesus kon (v.36).  Tog het hulle sy Woord nie in hulle harte ontvang nie (v.37), en so gewys dat hulle nie ware dissipels is nie (v.31-32).  Deur sy Woord te verwerp, het hulle die Vader verwerp by wie Hy dit gesien het (v.38).  Die Jode se bose vader het hulle aangehits om vir Jesus dood te maak en sy woorde te verwerp (v.38).

 

Moenie tevrede wees om te dat jy in Jesus glo nie, want miskien is jou geloof vals (v.31). Bewys dat jy in Hom glo deur in sy Woord te bly (v.31).  Om in sy Woord te bly beteken nie maar net dat jy dit hoor nie, maar dat jy ‘n dader van die Woord is (Mt.7:21, 26-27, Lk.6:46, Jk.1:22).  Sorg dan dat jy dit gedurig lees, hoor en doen wat daarin geskryf staan.  As jy dít doen, dan sal dit jou van die duiwel se leuens en versoeking bewaar (v.32).

 

Moet asseblief nie dink jy is ‘n dissipel, omdat jy ‘n godsdienstige erfenis het of omdat jou ouers gelowiges is nie (v.33). As jy dink dat jy op grond hiervan gered is, sal jy nie jou behoefte aan ‘n Verlosser sien nie (v.33).  As jy gered wil word, moet jy besef dat jy vas is in die boeie van jou sonde, want eers dán sal jy vir Jesus vra om jou vry te maak.

 

Dalk dink jy dat mense wat te veel drink, dwelms gebruik, rondslaap en pornografie kyk verslaaf is, en dat jy nie ‘n slaaf van jou sonde is nie. Maar volgens Jesus is elkeen wat in sonde lewe ‘n slaaf daarvan (v.34, Tit.3:3).  As jy deur iets oorwin word, is jy ‘n slaaf daarvan (v.34, 2 Pt.2:19).  Vir party mense is dit geld, vir ander is dit kos, vir ander is dit selfone en sosiale media, vir ander is dit…

 

Wie is jóú baas? Vir wie of wat lewe jy:  vir Jesus of vir jouself?  As jy ‘n slaaf van sonde is, moet jy nie dink dat jy jouself van hierdie harde meester se kettings kan vrymaak nie (v.34, Rm.6:15-23).  Net Jesus kan jou vrymaak (v.36).

 

As jy ‘n gelowige is, dan is jy vry en is Jesus jou baas (v.36). Sonde is nie meer jou baas nie, en daarom kán jy nee sê (Rm.6:14).  Om in hierdie vryheid te volhard moet jy in die Woord volhard (v.32).

 

Vir wie luister jy? (v.39-47)

Gestel jy lewe in die eerste eeu. Jy het iemand nodig om jou op die plaas te help.  Een Saterdag gaan jy na die slawemark in Rome toe.  Daar sien jy ‘n goed-geboude jong man.  Dit lyk of hy hard kan werk.

 

‘Wie se slaaf is jy?’ vra jy vir hom. ‘Ek is klaar gekoop,’ sê hy.  ‘Ek behoort aan daardie man met die rooi hemp en die bruin sandale,’ sê hy.  Jy wonder of hy die waarheid praat.  Jy staan terug en hou hom dop.  Vir wie luister hy?  Hy luister vir die man wat die slawe verkoop; die man met die groen hemp en swart sandale.  Hy het vir jou gelieg.

 

Die Jode het gesê dat God hulle Vader is, maar hulle het gelieg. Hulle het vir die duiwel geluister en hulle ore vir God se Woord toegestop.

 

Die Jode het gesê dat Abraham hulle vader is, maar hulle was verkeerd (v.39, Gal.3:7, 16). As hulle regtig sy kinders was, sou hulle (soos hy) hulle geloof in gehoorsame dade gewys het, en nie beplan het om vir Jesus dood te maak nie (v.40).  Hulle het geen rede gehad om Hom te wil doodmaak nie:  Hy het dan net vir hulle gesê wat Hy by God gehoor het (v.40).

 

Abraham het dít nie gedoen nie, en daarom was hulle nie sy kinders nie (v.40). Hulle het ‘n ander vader gehad (v.41).  Die Jode het gesê dat hulle nie uit geestelike of fisiese egbreuk gebore is nie (Hos.2:3, Mt.1:18-19), maar dat God hulle Vader is (v.41, Ps.89:28, Jes.9:5, 63:16, 64:8, Jer.3:19, Mal.2:10).

 

Maar as God regtig hulle Vader was, sou hulle vir Jesus liefgehad het en Hom nie wou doodmaak nie – Hy het immers van die Vader af gekom (v.42). As God regtig hulle Vader was, sou hulle nie sy Woord gehaat het nie (v.43, Jer.6:10).  Hulle sou die Woord aanvaar het wanneer dit hulle vertroos, maar ook wanneer dit hulle sonde uitwys (v.43).

 

Maar omdat hulle dit nie aanvaar het nie, maar vir Jesus wou doodmaak, het hulle gewys dat die duiwel hulle vader is (v.44). Hulle het die waarheid gehaat en was moordenaars soos hy.  Hy was van die begin af ‘n moordenaar, omdat hy in Adam en Eva die mensdom wou doodmaak.  Hy het ook vir Kain aangehits om vir Abel dood te maak (1 Jh.3:12).  Hy is die leuenaar wat vir Eva bedrieg het (Gn.3:4).  Daar is geen waarheid in hom nie (v.44, 32).  Om te lieg is vir hom so natuurlik soos asemhaal – dit pas by sy bose karakter (v.44).  Hy is die vader en oorsprong van alle leuens (v.44).

 

Anders as die Jode en die duiwel, het Jesus geen valsheid of sonde in Hom gehad nie (v.46, Jes.50:9). Hy het die waarheid gepraat (v.46), maar omdat daar leuens in hulle harte was, het hulle die waarheid gehaat en wou hulle dit nie glo nie (v.45-46).  So het hulle weer gewys dat hulle nie van God af is nie (v.47).  Net dié wat waarlik van God af was, kon Jesus se woorde aanvaar het (v.47, 18:37, 1 Jh.4:6).

 

Moenie sê dat God jou Vader is, as jy nie vir Jesus liefhet en doen wat Hy in die Bybel sê nie (v.41-42, Jh.14:15). Moenie sê dat God jou Vader is as die Bybel vir jou te hard is, sodat jy dit by jou voorkeure en omstandighede wil aanpas nie (v.43).  Moenie sê dat Hy jou Vader is as jy nie sy Woord liefhet, meer daarvan wil hoor, en doen wat dit sê nie (v.47).  Moenie sê Hy is jou Vader as jy sekere dele van die Bybel verwerp en sê dat dit maar net mense se opinies is nie (v.47).

 

Moenie sê dat Hy jou Vader is as jy leuens vertel, oordryf, en jou beloftes breek nie (v.44). Moenie sê dat Hy jou Vader is as Benny Hinn of ander vals leraars jou gunsteling predikers is nie (v.44).  Moenie sê dat Hy jou Vader is as jy vir kliënte lieg of oneerlik is nie (v.44).  Moenie sê dat Hy jou Vader is as jy mense haat, ‘n verbitterde mens is, ‘n onvergewensgesinde hart het, alewig baklei, en mense uit jou lewe probeer kry nie (v.44).

 

Jy is ‘n kind van die duiwel; hy is jou vader (v.44). Miskien klink dit vir jou te kras, maar volgens Jesus is daar nie ‘n grys gebied nie:  as jy nie ‘n kind van God en ‘n ware dissipel van Jesus is nie, is die duiwel jou vader (v.44).  Dit is nie net Sataniste wat kinders van die duiwel is nie.  Moslems, Hindoes, Jehova’s Getuies, ateïste, en mense van ander godsdienste is ook kinders van die duiwel, omdat hulle die ware Jesus van die Bybel verwerp.  Ook kerkmense wat nie vir Jesus opreg liefhet sodat hulle doen wat Hy sê nie, is kinders van die duiwel (v.44, 42, 27).

 

Is jy ‘n ware dissipel? Vir wie luister jy?  Luister jy vir die Bybel, totdat dit by die opvoeding van jou kinders, politiek, besigheid, die rol van die man en vrou in die huwelik, menseregte en jou seksualiteit kom?  Of gehoorsaam jy die Bybel in elke area van jou lewe?

 

Wie vereer jy? (v.48-59)

Ateïste sê dat hulle nie in God glo nie, maar die manier waarop hulle vir Darwin en sy evolusie-teorie vereer is niks anders as aanbidding nie. In Noord-Korea aanbid en vereer die volk hulle leier as ‘n tipe god.  In Jh.8 het die Jode vir Abraham bo Jesus verhef.  So het hulle gewys dat hulle nie ware dissipels van Jesus was nie, en dat hulle geloof vals was (v.31).

 

Die Jode het nie aanvaar dat hulle kinders van die duiwel is nie, maar het gesê dat Jesus ‘n demoon het (v.48, 7:20).  Hulle het die Samaritane gehaat (4:9), en het gesê dat Jesus een is (v.48).  Maar hoe kon iemand wat ‘n demoon in Hom gehad het, die Vader geëer het (v.49)?  Die Vader het Hóm ook geëer (v.50), al het die Jode dit nie gedoen nie (v.49, 5:23).  Die Vader is die Regter, en as Hý gesê het dat Jesus die Seun van God is, dan het die Jode se opinie nie veel saakgemaak nie (v.50).  Hulle het gesê dat Jesus ‘n demoon het (v.48), maar die Vader het gesê dat Jesus sy geliefde Seun is (Mt.3:17).

 

Omdat die Jode vir Jesus gelaster het, het hulle die Regter se oordeel verdien (v.50). Maar dié wat hulle bekeer het om Jesus se Woord te bewaar, sou nie die ewige dood gesmaak het nie (v.51).  Die Jode het weer gesê dat Jesus ‘n demoon het (v.52).  As selfs Abraham en die profete gesterf het (Sg.1:5), was Jesus mal om te sê dat dié wat sy Woord bewaar nie sal doodgaan nie (v.52-53).  ‘Wie dink Jesus ís Hy?’ het hulle gesê (v.53).

 

Hulle het nie verstaan dat Jesus van die ewige dood praat, dat Hy groter as Abraham en die profete was, en dat sy Vader Hom verheerlik het om die ewige lewe te gee aan dié wat in Hom glo nie (v.54, 17:1-2). Jesus het nie gelieg om te sê dat Hy van hierdie Vader af kom, dat Hy Hom ken, en dat Hy sy Woord bewaar nie (v.55).  Die Jode het Hom nie geken nie (v.55).

 

Hulle fisiese voorvader Abraham het uitgesien dat hy die Messias se dag sou sien (v.56). Hy het dit in Isak se geboorte, in geloof, en vanuit die hemel gesien, en hom daarin verbly (v.56, Heb.11:13).  Die Jode was nie soos Abraham nie, maar wou die Messias doodmaak (v.59).  Hulle het op grond van sy voorkoms besluit dat Hy nie die Messias kan wees nie, en het nie besef dat Hy die God van Abraham is nie (v.57-58, 15, 7:24, Eks.3:14, 6).  Alhoewel die Jode vir Jesus wou stenig was hulle onsuksesvol, omdat sy bepaalde tyd om te sterf nog nie aangebreek het nie (v.59, 20).

 

Eer jy vir Jesus? As jy nie aktief besig is om Hom met jou lewe te vereer nie, dan is jy niks beter as die Jode wat sy Naam gelaster het nie (v.48-49).  As die Vader Hom vereer het (v.49-50), hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie?  Verheerlik Hom deur jou lofprysing en gehoorsaamheid aan sy Woord (v.51).  Vereer Hom deur niemand bo Hom of op dieselfde vlak as Hy te plaas nie (v.52-53).

 

Ons mag nie praat asof engele ons hulp en verlossing is nie. Ons mag nie tot of deur hulle bid, en vra dat hulle ons help nie (Kol.2:18, Op.19:10).  Ons mag nie enige Ou- of Nuwe Testamentiese gelowige as ‘n sondelose karakter beskou, asof hulle lewe ‘n foutlose voorbeeld is om na te volg nie.  Ons mag nie enige gelowige in die geskiedenis op dieselfde vlak as die Bybel aanhaal, asof hulle nooit iets verkeerd gesê het nie (bv. Calvyn, Luther, Spurgeon, MacArhur).

 

Ons mag nie kerke se konstitusies of belydenisse bo of op dieselfde vlak as die Bybel plaas, of dit met dieselfde gesag as die Bybel aanhaal nie. Ons mag nie ons lewe volgens enige boek, filosofie of sisteem inrig nie, want daardeur vereer ons hierdie dinge bo Jesus se Woord.  Ons mag nie ‘n predikant vereer, asof alles wat hy sê so goed soos die Bybel self is nie.

 

Ons moet besef dat alle mense feilbaar is, en dat net Jesus volmaak is. Ons moet Hom alleen dien en aanbid as die God van Abraham, Luther en ander gelowiges (v.58).  Hy moenie ‘n plek in ons harte deel met enigiemand anders nie.  Moenie sê dat Hy ‘n goeie profeet of mens is, maar Hom nie aanbid nie.  Aanbid Hom as God, of sê saam met die Jode dat Hy ‘n demoon het en dat Hy gestenig moet word.

 

Soos jy goed weet sê baie mense op Facebook dat hulle Christene is. Op hulle Whatsapp en Facebook profiele deel hulle allerhande Christelike boodskappe.  Maar as jy na hulle lewens kyk, dan wonder jy of hulle die Here ken.  Hulle is godsdienstig en ken die Christelike ‘lingo’, maar weet nie regtig wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie.  Hoe lyk dit met jou?  Wat sê jou lewe en gehoorsaamheid aan die Bybel oor die ware stand van jou hart?  Is jy ‘n dissipel van Jesus, sodat jy die onderstaande woorde jou eie kan maak?

‘I am a part of the fellowship of the unashamed.

The die has been cast

I’ve stepped over the line

the decision has been made

I am a disciple of Jesus Christ.

I will not look back, let up, slow down, back away or be still.

My past is redeemed; my present makes sense; my future is secure.

I no longer need pre-eminence, prosperity, position, promotions, plaudits or popularity.

I don’t have to be right, first, tops, recognized, praised, regarded or rewarded.

I now live by faith, love by patience, live by prayer, and labour by power.

My pace is set, my gait is fast, my goal is heaven, my road is narrow, my way is rough, my companions few, my Guide reliable, my mission clear.

I cannot be bought, compromised, deterred, lured away, turned back, deluded or delayed.

I will not flinch in the face of sacrifice.

I will not hesitate in the presence of adversity.

I will not negotiate at the table of the enemy.

I will not ponder at the pool of popularity nor meander in the maze of mediocrity.

I will not give up, back up, let up, or shut up until I have prayed up, preached up, stored up, and stayed up the cause of Christ.

I am a disciple of Jesus Christ.

I must go until He returns, give until I drop, preach until all know, and work until He comes.

And when He comes to get his own, He will have no trouble recognizing me.

My colours are flying high and they are clear for all to see.

I am a disciple of Jesus Christ.’

Hoe moet jy reageer op jou redding?

Upstream

As iemand op iets versot is, dan sê ons dat hy dit eet, drink en slaap: sport, karre, tuinmaak, meisies, diere, rekenaars, fietsry, of watookal anders.  Volgens Paulus in Rm.12:1 moet elke Christen die aanbidding van God eet, drink en slaap.  Dit moet vir hom alles wees.  Dit moet die bril wees waardeur hy na die lewe kyk.

 

Verstaan dit

Ek is seker dat baie van my hoorders en lesers die film Fireproof gesien het.  Dit gaan basies oor ‘n huwelik wat uitmekaar uit val.  Die man en vrou baklei aanhoudend.  Die vrou se hart raak koud, sodat sy niks meer vir haar man voel nie.

 

‘n Sekere dokter wat saam met haar by die hospitaal werk wen haar hart deur vriendelik met haar te wees. Hy hoor dat haar ma ‘n beroerte gehad het, en dra dan $300 by vir die spesiale bed en rolstoel wat sy nodig het (die bed en rolstoel kos $24 300).

 

Die ontvangsdame sê vir die vrou dat ‘n sekere man daar aangekom het om hiervoor te betaal. Die vrou neem aan dat dit die dokter is, en sê dan vir hom watse goeie man hy is (vgl. Hos.2:5, 8).  Hy sê vir haar dat dit glad nie moeite was om iemand so spesiaal soos sý te help nie.

 

Êrens in die film kom die man tot bekering. Hy begin om anders teenoor sy vrou op te tree.  Sy merk dit op en weet nie hoekom hy verander het nie.  Hy sê vir haar dat die Here hom gered het, bely dat hy teen haar gesondig het, en vra mooi dat sy hom moet vergewe.  Sy sê dat sy tyd nodig het om daaroor te dink.  En dan kom die keerpunt.

 

Die vrou gaan hospitaal toe om linne vir haar ma se nuwe bed te koop. Die gesprek het so iets geklink:

 

Vrou: Dis net die linne waarvoor die dokter nie betaal het toe hy my ma se nuwe bed en rolstoel gekoop het nie.

 

Ontvangsdame: Die dokter?  Hý het dit nie betaal nie.

 

Vrou: Nee, hy het; ek het met hom daaroor gepraat.

 

Ontvangsdame: Nee, die dokter het net $300 van die totale bedrag betaal.

 

Vrou: Wie het dan die res van die geld gegee?

 

Ontvangsdame: Jou man.  Hy het twee weke gelede gebel en $24 000 betaal (die geld wat hy opgespaar het om vir hom ‘n nuwe boot te koop).

 

Hierdie nuus het die vrou se hart gesmelt. Sy het teruggegaan na haar man toe, en gesê dat sy dinge met hom en met die Here wil regmaak.

 

Toe sy gedink het dat die dokter die geld betaal het, het sy nie in liefde teenoor haar man gereageer nie. Maar toe sy tot die besef kom dat haar man die geld betaal het, het sy in liefde gereageer.

 

Jy moet God se groot ontferming in verlossing verstaan, voordat jy in liefdevolle en dankbare toewyding sal reageer.  Is dit nie wat die ‘dan’ of ‘daarom’ in v.1 beteken nie?  Dit is asof die apostel sê:  ‘Omdat jy dan die verlossing van hfst.1-11 ervaar het, moet jy jouself aan die Here toewy en volgens hfst.12 e.v. lewe.’  Anders gestel:  “Ek vermaan julle… by die ontferminge van God [hfst.1-11], dat julle jul liggame stel [hfst.12-16]…” (v.1).

 

Die persoon wat nie volgens v.1 en die res van hfst.12-16 lewe nie, het nog nie eintlik hfst.1-11 verstaan en ervaar nie. Laat my toe om dit vir jou te verduidelik, sodat jy op ‘n gepaste wyse kan reageer.

 

Alle mense weet dat God die wêreld geskep het (1:20). Olifante en donderstorms bewys sy krag (1:20).  Die uniekheid van die mens is ‘n refleksie van sy beeld (1:20).  Sonskyn en reën wys vir ons dat Hy goed is.  ‘n Swaeltjie se migrasie-sisteem sê vir ons dat Hy wys is.  Die simmetrie van ‘n blaar en die orde van ‘n bye nes wys iets van die Skepper se netheid en orde.

 

Tog lewe mense in afgodery, seksuele wellus, homoseksualiteit, jaloesie, moord, twis, leuens, kwaadpratery, hoogmoed, disrespek vir gesag, roekeloosheid, ontrouheid en baie ander sondes, asof daar nie ‘n God is nie (1:18-32). God se wet en ons gewetens sê vir ons dat dit verkeerd is om so te lewe (2:14-15).

 

Dié wie Bybels het is nie veel beter af nie, want alhoewel hulle God se wil ken, doen hulle dit nie (2:1).  Hulle is skynheilig, omdat hulle vir ander sê om nie te steel en egbreuk te pleeg nie, terwyl hulle dit self doen (2:21-22).  Hulle roem daarin dat hulle moreel en godsdienstig is (2:17-20), maar diep in hulle harte is hulle boos (3:10-18).

 

Omdat ons só teen God gesondig het, verdien ons om geoordeel te word (3:19). Maar uit sy liefde vir sondaars het Hy aarde toe gekom om namens ons die wet volmaak te onderhou, en daarna die straf te kry asof dit Hý is wat hierdie lelike dinge gedoen het (3:25).  A.g.v. ons sonde het die Vader die swaard van sy toorn getrek om die Seun te deurboor (Jes.53:4-6, 10).

 

Sy ontferming oor hulpelose en verlore sondaars het gemaak dat Hy bereid was om bloed te sweet en benoud te wees, om verlaat, gevloek, geslaan, gespot, verneder, gekruisig en gestraf te word. In sy dood was Hy bereid om die beker van God se toorn te drink (die beker wat vir ons bedoel was), sodat Hy aan die kruis uitgeroep het:  “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mt.27:46).

 

In sy groot ontferming het God ons deur geloof in sy Seun regverdig en onskuldig verklaar (3:21-4:25). Op grond van Jesus se kruisdood het Hy ons sonde vergewe, sodat ons nie meer ‘n skuldige rekord voor die Vader het nie.  Hy het ons vrygemaak, sodat die sonde nie meer ons baas is nie (6:1-7:6).  Hy het sy Gees in ons harte gegee, sodat ons nou instaat is om ‘nee’ te sê vir sonde (8:7-9, 13).

 

Die Gees tree ook vir ons in, werk alles uit tot ons voordeel, maak ons soos Jesus, en help ons om die volle skopus van God se verlossing te ervaar: uitverkiesing, voorbeskikking om soos Jesus te wees, roeping, weergeboorte, geloof en bekering, regverdigmaking, aanneming tot kinders, vergifnis, heiligmaking, verheerliking, die ewige lewe (hfst.3-11).  Ons aanbid die God van ontferminge (2 Kor.1:3).  Sy ontferminge, medelye, barmhartighede, goedertierenhede, en deernis is inderdaad oorvloedig, veelvoudig en sonder einde (v.1, Klg.3:22).

 

Leef dit

Toe ek 18 was het ek saam met ‘n Ou Apostel gewerk. Sy het eendag vir my gesê dat die mens se liggaam niks is nie, en dat die siel alleen belangrik is.  Juis daarom het dit vir haar nie saakgemaak of sy rook, vloek, dronk word, en rondslaap nie.

 

Hierdie idee kom van die Grieke af. In hulle gedagtes was die liggaam net ‘n hok waarin die siel vasgevang was.  Wat ‘n mens met die hok doen maak nie saak nie; solank die voëltjie wat binne die hok is mooi sing.  Volgens Paulus is dit nie hoe Christene dink nie.

 

Jesus het gesterf om jou siel en jou liggaam te verlos (v.1-2, 6:12-13, 19, Lk.10:27).  Jou liggaam is nie joune om daarmee te maak wat jy wil nie, maar dit behoort aan die Here (v.1, 1 Kor.6:19-20).  As jy dit vir jouself gebruik, dan steel jy wat geregtiglik aan God behoort.

 

Voorheen het ons ons liggame gebruik om teen die Here te sondig (3:13-18, Sp.6:16-19). Ons tonge het gelieg, gelaster, gevloek, en geskinder.  Ons oë en ore het na lelike dinge gekyk en geluister.  Ons hande het gesteel, geslaan, moord gepleeg, en lelike tekens vir mense gewys.  Ons voete het na plekke toe gehardloop waar ons nie veronderstel was om te wees nie.  Ons het ons liggame gebruik om losbandig en verslaaf te wees.

 

Noudat die Here ons gered het, moet ons ons liggame as ‘n heilige offer voor Hom stel (net soos wat Jesus dit gedoen het, vgl. Heb.10:5). In ons lewe en dood moet ons die Here met ons liggame verheerlik (Fil.1:20).  Ons lippe en tonge moet Hom prys (Heb.13:15), ander bemoedig, die evangelie verkondig, bid, en ander mense opbou.  Ons ore moet na sy Woord luister.

 

Ons oë moet die skepping geniet, sy Woord te lees, en uitkyk vir ander mense se behoeftes. Ons hande moet uitdeel (Heb.13:16) en dié wat swaarkry met deernis aanraak.  Ons voete moet na ons huise, gemeentes, en plekke toe loop waar ons ander kan dien.  Ons liggame moet rein wees en die kos geniet wat die Here vir ons gee.

 

Paulus sê eksplisiet dat ons ons liggame as ‘n lewende offer vir die Here moet gee.  In die Ou Testament moes hulle die dooie offers van skape, bokke en beeste bring.  Jesus het Homself in sy dood aan die Vader geoffer.  Maar Hy het weer opgestaan.  Omdat ons saam met Hom gesterf het en opgewek is (6:3-4, 6, 8), moet ons ons liggame as ‘n lewende offer vir die Here gee (v.1).  Ons moet ons lewens aan Hom wy.  Moet dan nie net ‘n offer vir die Here gee nie, maar wees een.[1]

 

Ek het reeds gesê dat ons liggame ‘n heilige offer moet wees (v.1).  Om heilig te wees beteken dat jy jouself van die wêreld afsonder om vir die Here te lewe (v.2, 1 Jh.2:15-16).  Ons moet anders as die wêreld dink en doen (v.1-2).  Ons moet anders wees in hoe ons mekaar dien (v.3-8), in wat ons haat en liefhet (v.9), in dit waarvoor ons ywerig is (v.11), in die manier waarop ons swaarkry hanteer (v.12), in die wyse waarop ons ons geld en besittings gebruik (v.13), in ons optrede teenoor ons vyande (v.14-21), in ons houding teenoor die regering en die wette wat hulle daarstel (13:1-7), in die manier waarop ons saamwerk met dié wat nie op elke punt met ons saamstem nie (hfst.14-15), ens.

 

Net dié wat só lewe kan vir die Here aanneemlik wees (v.1). Dié wat onheilig is, is vir die Here soos ‘n blinde of ‘n gebreklike lam – Hy soek dit nie.  Hy wil hê dat ons deur Jesus se volmaakte offer gereinig moet wees, en dat ons deur die krag van die Heilige Gees soos Jesus moet lewe (1 Jh.1:7, 2:6).  Soos alles in die skepping, moet ook ons nuwe lewe uit Hom, deur Hom en tot Hom wees (11:36).

 

Om jou liggaam en jou hele self só aan die Here te wy is mos net redelik, rasioneel en logies [v.1, Gk. logikos].  Om in ongehoorsaamheid te lewe nadat die Here jou gered het, is onredelik en ondankbaar.  Volgens die Griekse teks sê Paulus ook dat jy jou liggaam as ‘n ‘geestelike’ offer vir die Here moet gee (in kontras met fisiese offers van die Ou Testament).  Die implikasie is dat jy nie ‘n geestelike lewe en ‘n gewone lewe het nie, en dat Christenskap nie ‘n deel van jou lewe is nie.  Jou hele lewe is geestelik; Christenskap is jou lewe.

 

Dít is ware godsdiens of aanbidding (v.1, Gk. latreia).  Die ware gelowige dien nie maar net die Here vir ‘n uur of twee op ‘n Sondag, of met ‘n tiende van sy inkomste nie.  Vir hom is aanbidding nooit minder as ‘n erediens, die samekoms van die gelowiges, lofgesange, die sakramente of ordinansies, die Woord van God en gebed nie.  Maar dit is baie meer as dit.

 

Sy lewe en alles wat hy het behoort 24 uur per dag, 7 dae ‘n week aan die Here. Alles wat hy doen is godsdiens of aanbidding (v.1).  Sulke alledaagse dinge soos eet en drink doen hy om die Here te verheerlik (1 Kor.10:31).  Hy besef dat ook ‘n eerlike transaksie, goeie maniere op die pad, gehoorsaamheid aan jou ouers, harde werk, vredevolle verhoudings, skottelgoed was en met jou kinders speel aanbidding is.

 

Wel, dit is hoe dit behoort te wees. Dit kan nie anders as ons die ontferminge van God se groot en ryk verlossing verstaan en ervaar het nie (v.1).  ‘Love so amazing, so divine, demands my soul, my life, my all.’ (Isaac Watts).  Saam met Paulus wil ek jou nader roep [Gk. parakaleo], jou smeek, by jou pleit en jou vermaan om jouself en jou liggaam só vir die Here te gee (v.1).

 

Ek het onlangs ‘n bespreking oor die eindtyd op YouTube gekyk. Een van die sprekers het gesê dat hy gedurende sy kinderjare bang was om hemel toe te gaan.  Hy kon hom indink hoe dit sou wees om vir ewig rond te sweef en te sing nie.  Toe ek in matriek was het ek dieselfde vrees gehad.

 

Ek hoop dat Rm.12:1 jou ten minste van drie dinge oortuig het:

 

[1] Dat Jesus ook jou liggaam verlos het, sodat jy nie vir ewig gaan rondsweef nie (vgl. 8:23).

 

[2] Dat jou hele lewe aanbidding is, sodat jy nie net vir ewig gaan sing nie, maar baie ander dinge tot eer van die Here gaan doen.

 

[3] Dat lofsprysing vir jou so natuurlik en spontaan soos asemhaling gaan wees, omdat jy nie anders kán as jy regtig verstaan wat Jesus vir jou gedoen het nie.

 

[1] Stuart Olyott, The Gospel As It Really Is, p.113