‘n Dankgebed vir die reën, vergifnis en beskerming

thanking-god-for-rain

Deur die jare het ek gesien hoe Christene in groot getalle saamtrek om vir reën te bid. Ek het al gesien hoe Christene vas dat hulle geliefdes tot bekering moet kom.  Verlede week het ek ‘n kort video gesien waarin ‘n boer vir Angus Buchan vra om die Christene bymekaar te roep om teen plaasmoorde te bid.

 

Ek kritiseer nie hierdie pogings nie. Maar ek het nog nooit gesien dat Christene ‘n massa saamtrek hou om die Here vir die reën, vir sy vergifnis en vir sy beskerming te dank nie.  Jerry Bridges het gesê:  ‘We are anxious to receive but too careless to give thanks.’[1]  In Ps.65 gee Dawid vir ons ‘n voorbeeld van wat dit beteken om die Here vir sy vergifnis, verlossing en voorsiening te dank.

 

God se vergifnis (v.1-5)

Ek onthou dat ek jare gelede ‘n klein boekie oor stiltetyd gekoop het. Êrens het die outeur gesê dat ‘n mens die Here elke dag vir jou redding en vir Jesus se kruisdood moet dank.  Ek het besef dat ek dit nie genoeg doen nie, en het van toe af probeer om daarop te let.

 

Dawid het dit ook gedoen. Nog voor hy die Here vir sy beskerming en vir reën gedank het, het hy Hom vir sy vergifnis gedank.  Dit is die sentrale boodskap van die eerste klomp verse.

 

Die Here het verdien dat sy volk Hom met stille bewondering [Heb. dûmîyâh] en lofgesange moes prys (v.1-2).  Hiervoor moes hulle na sy tent in Jerusalem of Sion toe gegaan het (v.2).  Hulle moes die geloftes wat hulle in hulle desperate nood gemaak het (‘Here, as U ons vandag help sal ons…’), aan die Here betaal het (v.2, Pd.5:3-4).  Hulle moes Hom geprys het as die Een wat hulle gebede verhoor het (v.2-3, Lk.11:9-10).  Mense uit alle nasies moes Hom hiervoor geprys het (v.3, 67:4-6, 68:32-33, 86:9, Jes.2:2-3, 56:7, vgl. Mt.21:13).

 

Israel het veral rede gehad om die Here te prys, omdat Hy haar sonde vergewe het (v.4). Toe dit vir Dawid gevoel het of sy sonde te sterk is vir hom (v.4, 38:5), het die Here ingegryp en versoening bewerk (v.4, 79:9).  Dit het Hy in die toekoms gedoen toe Hy ook vir Dawid se sonde aan die kruis gesterf het.  Die Ou Testamentiese offers het dit geïllustreer.

 

Dawid het ook die Here geprys omdat Hy vir Israel uitgekies het om naby Hom te wees (v.5, 33:12). Hulle moes nie gedink het hulle verdien dit nie (Dt.7:7-8), maar moes dit as ‘n voorreg en ‘n seën beskou het dat hulle in die Here se voorhowe met Hom gemeenskap kon hê (v.5, 23:6, 27:4, 84:5).  Hier sou sy goedheid en heiligheid hulle versadig het (v.5).

 

Wat leer ons uit v.1-5 van hierdie Psalm? Ons moet die Here vir ons verlossing prys, en Hom dank dat Hy ons uitverkies het (v.1-5).  Is dit iets waaraan jy gereeld dink, of is jy al so gewoond daaraan, dat jy dit vanselfsprekend neem?  Dalk moet jy jouself weer aan die diepte van jou sondige verlede herinner, sodat jy die Here se vergifnis op Golgota opnuut kan waardeer (v.4, 103:10, 12, 130:3-4).

 

Dalk moet jy ook daaraan dink dat God jou nie gered het omdat jy Hom gekies het nie, maar omdat Hy jou gekies het (v.5, Jh.1:12-13, 6:44, 65, 15:16, Rm.8:29-30, 9:11-18).  Hoekom het die Here vir Israel gekies en nie die ander nasies nie?  En hoekom het Hy besluit om jóú te red:  wat maak jóú so spesiaal dat Hy jou gekies het om naby Hom te wees (v.5, Jer.30:21, 1 Kor.1:26-31, 4:7, Ef.2:12-13)?  Dit is pure genade.  As jy dít onthou, sal jy Hom meer wil prys (v.5, 2, Ef.1:4-6).

 

Maar jy moenie net op jou eie die Here vir jou verlossing prys nie; jy moet dit ook saam met ander gelowiges doen (v.1-2). Dit moet vir jou lekker wees om saam met die gemeente te vergader om die Here se goedheid te geniet, en om Hom vir sy heiligheid te aanbid (v.5, Ps.122:1, Heb.10:24-25).

 

Ek dink nie ons besef watse groot voorreg ons het om deur Christus in God se troonkamer in te kom nie (Heb.10:19-22). God se kinders in die Ou Testament sou hulle voortande hiervoor gegee het, maar ons neem dit ligtelik op.  Ons bly maklik van die erediens af weg, omdat tant Sannie van Kakamas vir die naweek by ons kuier, of omdat die aanddiens met ons gunsteling TV-program inmeng.  Gelowiges wat vir geen goeie rede van die Here se huis af wegbly nie (v.5, 1 Kor.3:16), sal nie die vervulling van sy goedheid beleef soos dié wat getrou kom nie (v.5).

 

God se verlossing (v.6-9)

Jannie is 5 jaar oud. Sy pa is sy held.  Hy kan ‘n rugby bal oor die huis se dak skop, en het een keer ‘n kwaai hond met ‘n stok weggejaag.  Hy kan ‘n boom afkap, ‘n sak hondekos met een hand dra en vleis braai.  Hy het eenkeer dwarsdeur die nag Kaap toe gery, terwyl Jannie en sy sussie agter in die kar gelê en slaap het (Jannie weet nie dat sy ma ook gehelp bestuur het nie!).

 

Eendag toe boelie ‘n ander kind vir Jannie by die kleuterskool. Hy was baie bang en het nie geweet of iemand hom kan help nie.  Sy vrese het hom verlam.  Hy het skoon vergeet hoe sy pa ‘n kwaai hond ‘gewen’ het.  As hy dit maar net onthou het, kon hy vir sy pa gevra het om die boelie (en sy pa) uit te sorteer.

 

Net so was dit ook met Israel: as hulle die Here se almag in die skepping onthou het, sou hulle geweet het dat Hy hulle ook teen hulle vyande kan beskerm.  Dit is die boodskap in v.6-9.

 

Terwyl Israel in Egipte was, het hulle in hulle nood tot die Here geroep (v.3, Eks.2:23). Volgens sy regverdige karakter het Hy hulle met vreeslike dade gered, om só die God van hulle verlossing te word (v.6, 106:22, Dt.10:21, 2 Sm.7:23).  Deur sy kruisdood in die toekoms sou Hy ook die Hoop en Verlosser van die nasies aan die eindes van die aarde geword het, die nasies oorkant die see (v.6, 3, 22:28).

 

In die begin het Hy sy almag soos ‘n gordel om sy middel vasgemaak, en het Hy die reusagtige berge gevestig (v.7, 93:1). Omdat daar dan geen einde aan sy mag is nie (v.7, Jer.32:17, 26-17, Lk.1:37, 18:27, Ef.3:20), was dit glad nie vir Hom moeite om Israel van haar vyande te red nie (v.6).  Net soos wat Hy die see stilgemaak het (v.8a, 89:10, 107:29, Mt.8:26), kon Hy Israel se vyande stilgemaak het (v.8b, Jes.17:12-13).

 

Die nasies aan die eindes van die aarde het die Here se groot tekens gevrees en hulle daaroor verwonder (v.9, Eks.15:14-16, Jos.2:10-11). Hy is die God wat elke dag blydskap bring wanneer Hy die son laat opkom en wanneer Hy die maan en die sterre laat uitkom (v.9).  As Hy dan die skepping beheer (v.9), is dit glad nie vir Hom moeilik om sy volk te beskerm nie (v.6).

 

Dit beteken nie dat geen gelowige ooit die slagoffer van ‘n plaasmoord of ‘n verkragting sal wees nie. Die Here het immers gesê dat die wêreld ons gaan verdruk (Jh.16:33, Hd.14:22, 2 Tm.3:12).  En tog weet ons dat die Here eendag teen sy kinders se vyande gaan optree.  Hy sal die duiwel, die Moslems, die Kommuniste en elke ander vyand van sy hemelse Bruid oordeel (v.8b).  Al raas hulle nou soos die golwe van see, sal hulle nooit die Here se kerk oorweldig nie (v.8, Mt.16:18).

 

Ons moet die Here dank dat geen moord of enigiets anders ons van sy liefde kan skei nie (Rm.8:38-39). Dit kan ons nie uit sy hand uit ruk of ons siele beskadig nie, en daarom hoef ons nie in vrees te lewe vir dié wat die liggaam kan doodmaak, maar daarna niks kan doen nie (Mt.10:28, Jh.10:28-29).

 

Die Here kan en sal selfs die slegte omstandighede tot ons voordeel uitwerk, en dit gebruik om ons meer soos Jesus te maak (Rm.8:28-29). Hy sal ons deur die wêreld se landmyne van sonde lei, sodat ons veilig aan die anderkant uitkom (2 Tm.4:18).

 

Ek probeer nie sê dat jy net vir geestelike beskerming moet bid, en dat die beskerming van jou liggaam onbelangrik is nie. Dis reg dat jy teen plaasmoorde en ander misdade in ons land bid.

 

Maar ons moenie van die beskerming van jou siel vergeet nie. Dit help nie dat jou liggaam veilig is omdat jy nou in Australië bly, terwyl jou siel in gevaar is nie (Mt.16:26).  Moet dan nie nalaat om Mt.6:13 te bid (‘Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose’), en dan die Here te dank wanneer Hy jou gebede beantwoord nie.

 

God se voorsiening (v.10-14)

In sy goedhartige liefde het die Here ‘n manier om meer te gee as wat ons nodig het. As Hy klaar vir mense kos gegee het, is daar 12 mandjies vol van vis en brood oor wat hulle nie klaar geëet het nie (Mt.15:20).  Ook as Hy vir ons reën gee, loop die damme oor.

 

Ons weet dat Hy soms ‘n goeie rede het vir waarom Hy die reën terughou. Maar sy normale patroon is om met ‘n oop hand vir die skepping te gee:  “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.” (Ps.145:16).  Dit is ook hoe Dawid dit in v.10-14 gesien het.

 

Dawid het die Here geprys, omdat Hy die aarde met ‘n oorvloed van reën besoek het (v.10, 2). Hy het die dor en arm aarde ryk gemaak (v.10).  Die rivier of kanaal van God wat deur Jerusalem gevloei het (Ps.46:5, Jes.7:3), het vol geword sodat daar genoeg drinkwater was (v.10).  Daar was ook genoeg water vir die koringlande buite die stad (v.10).  Op hierdie manier het die Here vir sy volk brood voorsien (v.10).

 

Met die oorvloedige stortreën het Hy die geploegde lande goed nat gemaak, sodat die harde klonte en riwwe sag geword het (v.11). Hy het die grond met water deurweek en dit vrugbaar gemaak, sodat dit ‘n geseënde oes opgelewer het (v.11).  So het Hy die jaar met sy oorvloed gekroon (v.12).

 

In v.12 het Dawid gesê dat die Here se spore met vettigheid drup. Hy het bedoel dat daar ‘n oorvloed van kos en water is wanneer die Here met sy reënwolke by ‘n plek verbygaan.  Vertalings soos die ESV sê dat die plaaswaens se spore oorloop.  Die waens is so oorlaai dat die koring in die tweespoor paadjies val, terwyl hulle dit na die skure toe aanry.

 

Soos in Botswana se Okavango Delta, het die reën alles verander. Dit wat altyd ‘n woestyn was, was nou weiding (v.13, Job 38:26-27).  Oral het daar waterpoele gelê (v.13).  Soos Namakwaland in die blommeseisoen, het Israel se heuwels haar vrolike blommerok aangetrek, haar Sondag beste om die Here te verheerlik (v.13).

 

Die groen weivelde het ‘n vuil wit woltrui met bruin en swart knope gedra: oral in die veld het skape en bokke die sappige en voedsame gras geniet wat die Here voorsien het (v.14).  En so het die Here deur die skape en die bokke vir sy volk klere, vleis, melk en kaas voorsien.  Hy het ook die valleie met goudkleurige koring oordek (v.14).  Saam met die res van die aarde het die goue koringare in die wind gedans en die Here met lofgesange geprys (v.14).

 

Om op hierdie manier dankbaar te wees is ‘n kenmerk van ‘n ware gelowige (Ps.50:23, Lk.17:11-19, Rm.12:1, Fil.2:14). Kan dit anders wees as die Here jou met soveel oorvloed geseën het?  Hy het jou geseën met alle geestelike seëninge in die hemel in Christus (Ef.1:3).  Hy het jou gekies, gered, vergewe, aangeneem en vir jou ‘n erfdeel in die hemel gegee (v.2-6, Ef.1:4-14).

 

Sy genade is so oorvloedig dat dit al jou sonde bedek (Ps.51:3, Jes.55:7, Rm.5:17, 20). Hy het sy oorvloedige liefde en lewe deur die Heilige Gees in jou hart uitgestort (Jh.10:10, Rm.5:5).  Hy antwoord jou ver bo wat jy kan bid of dink (Ef.3:20).  Die troos wat Hy gee wanneer jy swaarkry is oorvloedig (2 Kor.1:5).  Die reën en kos wat Hy gee is meer as ‘n dag se voorraad, meer as wat jy kan hanteer of nodig het (v.10-14).

 

Die voorregte van die liggaam van Christus, mediese sorg, godsdiensvryheid, die Bybel in ons eie taal, geleenthede om geestelik te groei deur goeie boeke, preke, DVD’s, die internet, konferensies en meer, getuig van die Here se goedheid. Verstaan jy nou hoekom jy nie moet nalaat om die Here te dank wanneer jy in jou stiltetyd bid nie (Fil.4:6, Kol.4:2, 1 Ts.5:17-18)?

 

Mense wat ondankbaar is en alewig kla, dink te veel van hulleself. Hulle dink dat hulle beter verdien, en kla dan as hulle dit nie kry nie.  As jy egter besef dat jy die hel verdien, sal jy dankie sê vir enigiets meer wat die Here jou gee.

 

Om in konstante ondankbaarheid te lewe is ‘n kenmerk van ongelowiges (Rm.1:21). Net soos ons, weet hulle hoe om vir reën en ander dinge te bid wanneer die krisis tref.  Maar wanneer die Here vir hulle deurkom, gee hulle nie vir Hóm die krediet nie.  Hulle prys hulleself en hulle eie vermoeëns, die chirurg wat hulle geopereer het, of die wonderlike tegnologie wat geniale slim mense uitgedink het.  En selfs dít doen hulle nie vir lank voordat hulle weer oor iets anders kla nie.

 

Hulle is soos die minister van water en sanitasie (Nomvula Mokonyane) wat op 7 Nov.2016 vir reën gebid het. Toe die Here op 10 Nov.2016 reën gegee het, toe sê sy:  ‘We didn’t pray for floods, we prayed for rain.  It feels like we were robbed.’

 

So is die wêreld vir jou: wanneer dit droog is kla hulle, en wanneer dit reën kla hulle.  Ek onthou hoe dit heerlik gereën het ná Januarie 2016 se hittegolf.  ‘n Omroeper van ‘n populêre radiostasie in Johannesburg het gekla, omdat ons vir ‘n week nie die son gesien het nie.

 

Moenie soos die wêreld wees nie, maar dank die Here in alle omstandighede – of dit nou te veel gereën het of te min (Ef.5:20, Job 1:21). Laat die Here se antwoord op jou gebede jou aanspoor om Hom te dank, maar ook om te bid dat die Wes-Kaap goeie reën sal kry.

 

Moet asseblief nie dink dat sommige plekke in ons land nog droog is, omdat hulle groter sondaars is as ons nie. “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.” (Lk.13:3, 5).

 

As ons ons nié bekeer en glo dat Jesus Christus die enigste Verlosser van sondaars is nie, sal die lieflike reën wat ons oor die afgelope vier maande geniet het, ‘n getuie teen ons wees op die oordeelsdag. Die reën sal jou daaraan herinner “dat dit [God] is wat die goeie dinge gee:  Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” (Hd.14:17, NAV).

 

Ek wil jou aanspoor om die Here vir sy vergifnis, verlossing en voorsiening te vra. Moet asseblief nie terughou of skaam wees nie; die Here gee graag.  Maar wanneer Hy hierdie dinge gegee het, moet ons nie nalaat om Hom daarvoor te dank nie.

 

[1] The Practice of Godliness, p.101

Advertisements

Hoe om ’n vals leraar uit te ken

Wolf amid sheep

Justin Peters het ‘n bekende DVD gemaak met die titel: ‘A Call for Discernment.’  Die DVD is vol van aanhalings en video snitte van populêre TV predikers.  Peters se doel met die DVD was om gelowiges teen vals lering te waarsku.  Sy titel spreek volumes oor Christene se onvermoë om vals lering uit te ken.  In my kort bediening het ek male sonder tal gesien hoe mense wat ‘n vlak kennis van die Skrif het, vals lering soos koeldrank opslurp.  Dit is skrikwekkend hoe baie mense nie besef hoe gevaarlik dit is nie.  Is dit toevallig dat Jesus direk na sy lering oor die smal en die breë weg, teen vals leraars waarsku?  Sy punt was eenvoudig dat talle mense wat op die breë weg is deur vals leraars daarheen gelei is.  Die ergste van alles is dat hulle dink die breë weg gaan hemel toe.  Daarom is dit lewensbelangrik dat jy vals lering moet uitken.  1 Johannes 4:1-6 help ons om dit te doen.

 

Toets hom (v.1)

Gestel jy koop ‘n tweedehandse kar. Die handelaar wat die kar verkoop weier dat jy dit toetsbestuur, en sê jy moet eers die geld in sy rekening inbetaal.  Sal jy nie agterdogtig wees nie?  Net so is dit vreemd as jy ‘n prediker aan die Skrif wil toets, en hy vir jou sê:  ‘Hoe durf jy jou hand aan die gesalfde van die Here slaan?’  Volgens Johannes is dit elke gelowige se plig om predikers aan die Skrif te toets.

 

Johannes waarsku God se geliefdes om nie elke gees te glo nie (v.1). Hulle moenie alles glo net omdat dit die Christen naam dra nie.  Hulle moet die prediker se woorde aan die Skrif toets soos wat ‘n mens metaal vir egtheid toets in die vuur (v.1, 1 Tessalonisense 5:20-21, 1 Korintiërs 12:10, 14:29, Openbaring 2:2).  Toe Johannes sy brief geskryf het, het baie mense die kerk verlaat om die gif van hulle vals lering in die wêreld te versprei (v.1, 2:19, 2 Johannes 7).  Die vals leraars was oral, en juis daarom moes die gelowiges ekstra waaksaam wees (v.1).

 

Toets Christelike predikers en outeurs aan die Bybel. Moenie naïef wees en alles vir soetkoek opeet net omdat dit ‘n Christelike baadjie aan het, of omdat die persoon hy is die ware Jakob nie.  Satan en sy agente kan hulleself voordoen as ‘n engel van lig.  Paulus skryf in 2 Korintiërs 11:13:15:  “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.  En geen wonder nie!  Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.  Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.  Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”  ‘n Vals leraar gaan nie vir jou sê hy is die duiwel se agent nie.  Toets hom.  Moet jou nie steur aan mense wat sê:  ‘Wie is jý om ‘n geleerde prediker te bevraagteken?… Jesus sê jy mag nie oordeel nie… Pasop dat jy nie die Gees uitblus nie’ nie.  Soos Johannes (v.1), sê Jesus jy moet die prediker toets (Matteus 7:15-20).

 

Moet egter nie selfregverdig of krities veroordelend wees, sodat jy almal wat nie 100% met jou saamstem nie as ‘n ketter bestempel (Matteus 7:1-5). As jy dit doen sal jy maklik ‘n liefdelose ‘heresy hunter’ word wat alewig ‘nit pick’ en fout vind.  Hoewel jy nie so moet wees nie, moet jy tog instaat wees om te onderskei en te beoordeel.

 

Daar is soveel vals profete dat jy om elke hoek en draai paraat moet wees (v.1). Hulle infiltreer Christelike boekwinkels, TV kanale, radio stasies, Sondagskole en jeug groepe, kerke, manne en vroue kampe, teologiese kolleges, sending organisasies, Bybelvertalingskomitees, ens.  Moenie sê:  ‘Ek probeer maar net oopkop wees’ nie.  ‘n Oop kop is ‘n teiken vir die duiwel se leuens net soos wat ‘n oop venster in die aand ‘n teiken is vir motte en ander goggas.

 

Hoekom moet jy predikers aan die Skrif toets? Want as jy dit nie doen nie, sal jy vir hulle leuens val.

 

Toets hom aan sy Christologie (v.2-3)

Op 8 Desember 2002 het Creflo Dollar gesê dat Jesus as onvolmaakte mens aarde toe gekom het, en nie as God nie.[1]  In dieselfde trant het Kenneth Copeland gesê:  ‘Why didn’t Jesus openly proclaim himself as God during his 33 years on earth?  For one single reason.  He hadn’t come to earth as God, he’d come as man.’[2]  Op 21 April 1991 het Copeland op TBN gesê:  ‘How did Jesus then on the cross say, ‘My God’?  Because God was not His Father any more.  He took upon Himself the nature of Satan.’[3]  Op 1 Desember 1990 het Benny Hinn dieselfde gesê op TBN.[4]  In Februarie 1987 het Copeland gemaak of hy namens Jesus praat en het hy gesê:  ‘They crucified me for claiming I was God.  I didn’t claim that I was God; I just claimed that I walked with Him and that He was in Me.’[5]  Kan dit wees dat die Heilige Gees so oor Jesus sou laster?  Volgens Johannes gee ‘n vals leraar se Christologie (sy lering oor Jesus se Persoon en sy werk) hom weg.

 

Hoe weet jy dit is die Heilige Gees wat deur iemand praat? Die Gees getuig van Jesus en verheerlik Hom (Johannes 16:14).  ‘n Prediker wat van af God kom glo nie net die korrekte feite oor Jesus nie (die duiwel glo dit ook, vgl. Markus 1:24, Jakobus 2:19), maar hy bely Hom hartlik en openlik (v.2).  Die vals leraars in Johannes se tyd het gesê Christus is ‘n geestelike wese wat nie waarlik mens was nie, maar net soos ‘n mens gelyk het.  Ander het gesê dat Christus in die Jordaanrivier op die menslike Jesus gekom het, en hom weer aan die kruis verlaat het.  Johannes het gesê dat ‘n leraar wat dít preek, nie van God af kom nie (v.3).  Die ware leraars het geglo dat Jesus Christus een Persoon is (v.2).  Hulle het bely dat Jesus die Goddelike Messias is wat volkome mens geword het (v.2, Johannes 1:1, 14, Hebreërs 2:17).

 

As iemand die Bybelse Jesus ontken, is hy ‘n vals leraar. (v.3). Die antichris se gees lei hom (v.3, 1 Timoteus 4:1).  Hierdie is die gees wat homself as christus voorhou, maar teen (anti) die ware Christus en die Vader is (v.3, 2:22).  Johannes se lesers het deur Daniël 11, Matteus 24, en 2 Tessalonisense 2 gehoor dat die antichris kom, en volgens Johannes was daar reeds baie van hulle in die wêreld (v.3, 2:18).

 

Moenie vir ‘n prediker val net omdat hy oor Jesus praat nie. Wat sê hy oor Jesus?  Verkondig hy die ware Jesus van die Bybel of ‘n ander Jesus (2 Korintiërs 11:4)?  Verkondig hy Jesus as die ewige God (Johannes 1:1, 8:58)?  Jesus wat in elke opsig gelyk is met die Vader (Kolossense 1:19, 2:9, Hebreërs 1:3)?  Jesus wat die ware Messias is (Matteus 16:15-17)?  Jesus wat volkome mens geword het (Filippense 2:6-7)?  Jesus wat vir ewig God en mens sal wees (Romeine 9:5, 1 Timoteus 2:5, Handelinge 17:31, Daniël 7:13-14)?  Jesus wat deur die krag van die Heilige Gees uit ‘n maagd gebore is, sodat Hy nie half God en half mens is nie, maar volkome God en volkome mens – twee nature in een Persoon (Lukas 1:31-35)?  Jesus wat nie in sy natuur of dade met sonde besmet was nie, maar volkome heilig is (Hebreërs 7:26, 4:15, 1 Petrus 2:22)?  Jesus wat die straf vir ons sonde op Homself geneem het aan die kruis (Jesaja 53, Romeine 3:25)?  Jesus wat op die derde dag liggaamlik uit die dood uit opgestaan het (Johannes 20, 1 Korintiërs 15:4-8)?  Jesus wat die enigste Middelaar tussen God en mense is (1 Timoteus 2:5)?  Jesus wat nou aan die regterhand van God sit (Psalm 110:1, 1 Petrus 3:22, Hebreërs 1:3)?  Jesus wat in ‘n sigbare wederkoms na die aarde toe sal terugkeer (Handelinge 1:9-11)?

 

Soms ontken vals leraars nie prontuit vir Jesus nie. Maar hulle bely Hom ook nie direk nie.  Daar is sekere sentrale waarhede waaroor hulle eenvoudig stilbly.

 

So, hoekom moet jy ‘n prediker se Christologie toets? Want ‘n vals Jesus kan jou nie red nie.

 

Toets hom aan sy wêreldbeskouing (v.4-5)

Dit is moontlik vir ‘n ware Christen om in sonde te val. Tog kenmerk dit nie sy lewe nie.  Met ‘n vals leraar is dit anders.  Ons hoor gedurig in die media hoe liberale of prosperity predikers se seksuele skandes op die lappe kom, hoe hulle geld verduister, hoe hulle super luuks lewe, hoe hulle duur oorsese vakansies hou, en hoe hulle met die ‘ministry’ se geld multi-miljoen dollar privaat vliegtuie koop.  Hulle liefde vir die wêreld wys dat hulle nie enige belang of plek in die lewe hierna het nie.

 

Gelowiges moet waak vir vals leraars, maar hoef nie vir hulle bang te wees nie. Ons is van God af, en die Heilige Gees wat in ons is is sterker as die duiwel agter wie die bose wêreld aanloop (v.4, 5:19, 2 Korintiërs 4:4, Efesiërs 2:2).  Die Heilige Gees lei ons, sodat ons deur die vals leraars se leuens kan sien en die wêreld oorwin (2:20, 27, 5:4-5).  Omdat God sterker is as die duiwel (v.4), sal die vals leraars nie daarin slaag om gelowiges in die verderf in te lei nie (Matteus 24:24).  ‘n Vals gelowige het nie die Heilige Gees wat hom waarsku nie, en dus sal hy die duiwel se leuens volg (Matteus 24:11, 2 Tessalonisense 2:9-12, Jesaja 44:20, 2 Korintiërs 4:4).

 

Vals leraars oorwin nie die wêreld nie, maar is lief vir die begeertes van die sondige vlees, die lus om dinge te wil sien, die gejaag na rykdom, en ‘n obsessiewe trots in hulleself (v.5, 2:16, 2 Petrus 2). Soos hulle, is hulle volgelinge ook lief vir die wêreld (v.5).  As jy wil weet waar die karkas lê, moet jy kyk waar die aasvoëls draai.  As jy die vals leraar wil uitken, moet jy kyk waar die wêreld gemaklik voel en saamdrom (v.5).  Wie is die prediker vir wie die media prys?  Jesus het gesê:  “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê.” (Johannes 15:19).

 

Toets ‘n prediker aan sy wêreldbeskouing. Leef hy eenvoudig, of wys sy duur smaak en luukse leefstyl dat die wêreld vir hom belangrik is?  Hou hy van rowwe partytjies?  Voel hy ongemaklik rondom vroue wat sleg aantrek, of soek hy juis hulle geselskap uit?  Het hy films op sy rak wat by jou vrae laat?  Het hy ‘n probleem met hoe die wêreld lewe (Romeine 12:2), of sê hy soos die wêreld dat saambly nie sonde is nie, dat aardse  rykdom die goeie lewe is, dat gays so gebore is, dat baie drank aanvaarbaar is vir mense wat oor 18 is, ens. (v.5)?  Verskil sy leefstyl opmerklik van die ongelowige s’n, sodat selfs húlle moet sê:  ‘As jy ‘n ware Christen wil ontmoet is dit hy’?

 

Hoekom moet jy ‘n prediker aan sy wêreldbeskouing toets? Want jy beskadig jouself as jy ‘n man volg wie se lewe nie sy boodskap ondersteun nie.

 

Toets hom aan sy Skrifbeskouing (v.6)

‘n Teoloog het vir ons vertel hoe ‘n liberale professor ‘n vergadering by UNISA moes open. Om ‘n punt te bewys het hy die Bybel eenkant toe geskuif en uit ‘n ander boek voorgelees.  Soos elke ander vals leraar was die Bybel vir hom maar net nog ‘n boek, eerder as die Woord van God.  Volgens Johannes sal ‘n persoon se Skrifbeskouing vir jou sê of hy ‘n vals leraar is of nie (v.6).

 

Die apostels en hulle lering kom nie van die wêreld nie (v.5), maar van God (v.6). Ware gelowiges soek die apostels se lering (v.6).  Die vroeë kerk het hulleself hieraan toegewy (Handelinge 2:42).  Jesus het gesê:  “Die wat uit God is, luister na die woorde van God… My skape luister na my stem… Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.” (Johannes 8:47, 10:27, 18:37).  Vals leraars en gelowiges soek nie die apostels se lering nie.  Hulle bevraagteken en verdraai dit, en sê dis nie genoegsaam nie (v.6, 2 Korintiërs 4:2, Openbaring 22:18-19).  Hulle weier om hulle daaraan te onderwerp, en sê die Bybel is outyds en geld nie vir vandag nie.  Die Gees van waarheid help ons om die apostels se geskrifte (die Nuwe Testament) van die duiwel en sy vals leraars se leuens te onderskei (v.6, 5:6, Johannes 16:13, 8:44, Handelinge 17:11).

 

Toets ‘n prediker aan sy Skrifbeskouing. Preek hy die Skrif?  Kan jy jou Bybel oopmaak en duidelik daarin volg wat hy sê?  Lees hy ‘n vers, maar verwys in die res van sy preek nie weer na die Bybel nie?  Is Bybelverse in sy preke yl gesaai soos gras in die Namib woestyn?  Streel hy mense se ore (2 Timoteus 4:3-4)?  Doen hy moeite om te sê wat hulle wil hoor (v.5)?  Vermy hy verse oor selfverloëning, heiligheid, die finale oordeel, ens.?  Is die Bybel vir hom genoeg, of soek hy meer omdat hy dink dis irrelevant?  Staan Bybelse prediking sentraal in sy bediening?

 

Drie jaar gelede het ek ‘n verslag geskryf, en mense teen vals lering gewaarsku. Toe ‘n ander predikant dit lees het hy gesê ek is liefdeloos.  Maar is dit liefdeloos om jou kind teen slegte invloede te waarsku?  Is dit liefdeloos om iemand teen gevaar te waarsku?  Hoe is dit liefdeloos om iemand teen die duiwel en sy agente te waarsku?  Hoe is dit liefdeloos om iemand uit die pad te stamp as jy die trein van vals lering teen ‘n spoed sien aankom?

[1] John MacArthur, Strange Fire, pp.282, 47

[2] Ibid

[3] Ibid, p.47

[4] Ibid, p.282

[5] Ibid, p.48

God se goedheid en die mens se ondankbaarheid

Grumbling kid

Kom ek vertel jou van twee mans.  As ek met die een praat sê hy:  ‘Dit help nie om te kla nie.’  En dan begin hy.  Hy kla van begin tot einde.  Dit is so erg dat mense al gesê het:  ‘Ek kuier nie weer by hom nie.’  ‘n Ander man sê weer:  ‘Ek het niks om oor te kla nie,’ en dan vertel hy jou van die Here se goedheid.  Toe my foon gesteel is het hy my gebel en gesê:  ‘Ek hoor jou foon is gesteel; ek stuur vir jou ‘n ander een.’  Toe ek die foon kry toe bel ek hom om dankie te sê.  Sy reaksie was:  ‘Dit lyk my jy ken nie jou Bybel nie:  jy moet vir die Here dankie sê – nie vir my nie.’  So moet ons ook wees.  Moenie ondankbaar wees soos Israel was in Eksodus 15:22-17:7 nie.

God se voorsiening in Sur (hfst.15)

Was jy al in ‘n dorp waar die water ondrinkbaar was?  Het jy al yskoue soet bergwater geproe?  In Parys is die water so sleg dat jy nie uit die krane kan drink nie, maar by SPAR water moet koop.  Jy sal siek word as jy die kraanwater drink.  Toe ek op skool was het ons in die Soutpansberge gaan stap.  Daar het ek yskoue soet bergwater gedrink.  Israel het van beide gesmaak toe hulle in die woestyn was.

Die volk het van die Rooisee af na die Sur-woestyn toe getrek.  Na drie dae in die woestyn het hulle niks water gehad nie (15:22).  Toe hulle uiteindelik by Mara aankom, was hulle harte bitter oor die bitter water daar (15:23).  Hulle moes gebid het, maar het aanhoudend gekla (15:24, 16:2, 7-9, 11, 17:3).

Moses het die Here aangeroep.  God het vir hom ‘n stomp gewys wat hy toe in die water gegooi het, sodat dit in soet water verander het (15:25, vgl. 2 Konings 2:21, 4:41).  God het aanvanklik bitter water gegee, omdat Hy die volk se vertroue en gehoorsaamheid wou toets (15:25-26, 16:4).  Moses skryf later:

“En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie… wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen” (Deuteronomium 8:2, 16).

God sou die volk en hulle bitter water genees as hulle na Hom sou luister (15:25-26).  “En julle moet die HERE julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.” (23:25).  “wat al jou krankhede genees” (Psalm 103:3).

God het die volk na Elim toe gelei waar daar 70 palmbome met koelte, en baie water was (15:27).  Daar was twaalf fonteine:  een vir elkeen van die twaalf stamme.

God se voorsiening in Sin (hfst.16)

Ons het Maandag by ‘n afgetrede predikant en sy vrou gaan kuier.  Hulle het vir 40 jaar nooit ‘n salaris gekry nie.  In die kerke waar hulle bedien het, het hulle nooit ‘n offergawe opgeneem nie.  Hulle getuig dat die Here hulle nooit in die steek gelaat het nie.

Toe hulle dogter 5 word, wou sy ‘n partytjie hê.  Sy het nie geweet dat daar nie geld is nie en het sommer ‘n klomp mense in die buurt uitgenooi.  Haar ma het nie koekbestandele gehad nie en was bekommerd.  Sy het gebid en gevra dat die Here moes help.  Toe sy die volgende oggend opstaan toe is daar ‘n pakkie met koekbestandele op die koffietafel.  Sy weet tot vandag toe nie hoe dit daar gekom het nie.  Kan jy sulke stories vertel?  Israel kon.  God het vir 40 jaar in die woestyn gesorg dat hulle kos en water het.

Die volk het Elim verlaat en na die Sin-woestyn toe getrek (16:1).  Hulle was nou al ‘n maand uit Egipte weg (16:1, 12:6).  Waar het 3 miljoen mense vir ‘n maand kos gekry?  Het hulle melk, kaas, vleis geëet?  God het vir hulle gesorg.  Hulle het kastig onthou dat hulle lekker brood en vleis wat hulle in Egipte gehad het (16:2-3).  “Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel.” (Numeri 11:5).  Hulle het maar ‘n kort geheue gehad; hulle het kos en dood bo vryheid gekies (16:3).

God was geduldig met die volk en het belowe om vir hulle brood en vleis te gee (16:4, Psalm 78:24-25).  Hulle sou elke dag kos hê en twee keer soveel op Vrydae, sodat hulle op die Sabbat kon rus (16:4-5).  Hulle moes leer om te glo dat die Here elke dag vir hulle sou sorg.  In die aand sou hulle kwartels hê en in die oggend manna.  So het God gewys dat hy die verheerlikte Een is wat hulle uit Egipte uitgelei het (16:6-7, 10-11).  Die volk moes verstaan dat hulle klagtes nie teen Moses was nie, maar teen God (16:7-9).  “Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” (Lukas 10:16).

God het ‘n oostewind gestuur om die kwartels te bring (16:13, Psalm 78:26-27, Numeri 11:31).  Dit is ‘n bekende feit dat kwartels oor die Sinaï-skiereiland trek.  Hulle vlieg laag en rus wanneer die son sak.  Teen dié tyd is hulle baie moeg en kan ‘n klein kind hulle met die hand vang.

Die manna[1] was brood uit die hemel wat saam met die dou op die grond geval het (16:13-15, Deuteronomium 8:3).  Dit was wit soos koljandersaad, het gelyk soos balsemgom, en het gesmaak soos heuning en vetkoek (16:31, Numeri 11:7-8).  Elkeen het daagliks omtrent 2.2 liter opgetel (16:16-18).  Hulle moes elke dag alles opeet en niks tot die volgende dag oorlos nie.  Hulle het egter nie geluister nie, sodat die manna die volgende dag vrot geword het en vol wurms was.  Moses was kwaad oor hulle ongehoorsaamheid (16:19-20).

Op die sewende dag moes hulle nie manna optel nie.  God sou sorg dat die dubbel-porsie wat hulle op die Vrydag versamel het sou hou tot die Saterdag toe (16:23-26).  Die Sabbatsrus wat in Genesis 2:3 beskryf word is hier as ‘n wet ingestel, en is in 20:8-11 bevestig.  God was kwaad omdat die volk sy Sabbatopdrag geminag het (16:27-30).  “Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn…my sabbatte het hulle baie ontheilig.  Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig.” (Esegiël 20:13).

God het vir Moses gesê om 2.2 liter manna in ‘n goue kruik te sit, sodat dit later in die ark gebêre kon word (16:32-34, Hebreërs 9:4).  So kon die volk in latere jare onthou dat God hulle vir 40 jaar in die woestyn versorg het.  Eers toe hulle in die Beloofde Land aankom het die manna opgehou val (16:35, Josua 5:12).

Omdat mates van geslag tot geslag verander, het Moses in 16:36 gesê dat ‘n gomer een tiende van ‘n Efa is.  Dis byna soos ons oupas wat met ponde, pennies, krone, halfkrone en shillings gewerk het, en dit in Rande vir ons moet verduidelik.

God se voorsiening by Rafidim (hfst.17)

In sy preek oor Eksodus 16 het Willem Nel vertel van ‘n vrou wat gebid en gehuil het, omdat sy nie kos in die huis gehad het nie.  Sy wou ook graag vir haar kinders ‘n ete gee op Thanksgiving.  Nadat sy gebid het, het iemand aan die deur geklop en ‘n $50 koopbewys vir haar gegee.  Sy het die Here gedank.  Later het iemand kruideniers vir haar gebring.  Dit was soveel dat sy daarvan in die gangkas en onder die bed moes bêre.  Sy het skaars klaar uitgepak toe die telefoon lui.  Iemand van die kerk het vir haar gesê:  ‘Ons nooi jou en jou kinders uit om by ons te kom eet vir Thanksgiving, en ons vat nie nee vir ‘n antwoord nie.’

Het jy al so ‘n ervaring gehad, waar God meer gee as wat jy nodig het?  Israel het so ‘n ervaring gehad by Rafidim.  Toe hulle daar aankom was daar nie water nie (17:1).  Hulle het alweer gekla, en dit ná God se voorsiening in hfst.15-16 (17:2-3)!  In die Psalms staan daar:

“Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land.  En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin.  En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê:  Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn?  Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het—sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk?” (Psalm 78:17-20).

“Verhard julle hart nie soos by Mériba, soos op die dag van Massa in die woestyn nie; waar julle vaders My versoek het, My beproef het, alhoewel hulle my werk gesien het.  Veertig jaar het Ek ‘n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê:  Hulle is ‘n volk met ‘n dwalende hart, en hulle ken my weë nie; sodat Ek in my toorn gesweer het:  Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie!” (Psalm 95:8-11).

Paulus sê in 1 Korintiërs 10:9:  “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom.”

Moses het gebid en vir die Here gesê dat die volk hom wou stenig (17:4).  So wou hulle deur die geskiedenis met hulle leiers doen (Matteus 23:37, Hebreërs 11:37):  Moses, Aäron, Dawid, Sagaria, Stefanus, Paulus, en Jesus (Numeri 14:10, 1 Samuel 30:6, 2 Kronieke 24:21, Handelinge 7:58, 14:19, Johannes 8:59, 10:31-33).

God sou op die rots by Horeb staan.  Moses moes die ouderlinge van Israel daarheen neem en die rots met sy staf slaan (17:5-6).[2]  Kinderbybels laat dit lyk of dit ‘n smal stroompie was, maar volgens Psalm 78:15-16, 105:41 het die water uitgestroom soos riviere.  In 1 Korintiërs 10:4 sê Paulus dat Jesus hierdie water vir hulle gegee het.

Moses het die plek Meriba en Massa genoem:  Meriba omdat hulle met die Here getwis het, en Massa omdat hulle Hom getoets het (17:7).

Ons moet die Here in alles dank (Kolossense 3:15-17, 1 Tessalonisense 5:18).  Moenie kla soos die Israeliete nie (1 Korintiërs 10:10-12).  Soos hulle vaders in die woestyn het die Jode in Jesus se dag teen Hom gemurmureer (Johannes 6:41, 43, 61).  Laat ons met danksegging bid en in ons slegte omstandighede erken dat God goed, wys, en almagtig is (Filippense 4:6).  Moenie angstig wees nie.  Soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid.  God sal vir jou alles gee wat jy nodig het (Matteus 6:33).  Wees dankbaar vir wat jy het en moenie kla oor wat jy nié het nie (Filippense 4:12-13).  Moenie só lewe dat die dinge wat jy begeer later ‘n behoefte word, sodat jy kwaad is vir God as jy daarvoor bid en dit nie kry nie.  “Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” (1 Timoteus 6:8).  Leer jou kinders reg deur die Skrif en jou eie voorbeeld.  Jy kan nie vir húlle sê om dankbaar te wees as hulle sien dat jy materialisties is, of altyd koop, ondankbaar is, en nuwer en beter wil hê nie.  Leer om gereeld dankie te sê.  Bid ‘n opregte gebed voordat jy eet en nie net ‘n aangeleerde rympie nie.  Dank die Here vir jou kos.

Nog ‘n paar lesse wat ons uit hierdie hoofstukke leer:

[1] Vergeet jy van die Here as jou spens, petroltenk, en bankrekening vol is?  Roep jy Hom aan as dit maandeinde is?  Jy moet leer om die Here daagliks, nie maandeliks nie, te vertrou (16:21).  Bid vir jou daaglikse brood (Matteus 6:11).  Sê dankie vir jou salaris, maar moenie daarop vertrou nie.  Vertrou op die Here.

[2] Het jy ‘n baie groot behoefte? God kan gee as dit onmoontlik lyk:  “en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë” (Psalm 78:27).  “Toe het ‘n wind wat van die HERE kom, uitgevaar en kwartels van die see af oorgedrywe en op die laer gestrooi omtrent ‘n dagreis hier en omtrent ‘n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond.” (Numeri 11:31).  God kan brood uit die hemel gee as dit moet.  Die Jesus van die Nuwe Testament is dieselfde God van Eksodus 15-17.  Dit is Hý wat 5000+ mense gevoed het in Matteus 14-15.  Hy kan jóú ook help.

[3] Moenie bid en dan rondsit nie.  Bring jou kant en werk.  Moenie laat slaap nie, maar staan vroeg op en werk hard (16:21):  “as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2 Tessalonisense 3:10).

[4] Moenie angstig wees, sodat jy soos ‘n slaaf werk nie.  God wil hê jy moet rus ook.  Vertrou dat die Here vir jou sal sorg (16:30, Psalm 127:2).  God het ‘n rusdag gegee sodat jy kan ontspan (Markus 2:27).  Hy sal vir jou sewe dae se kos gee vir net ses dae se werk.

[5] Het jy baie meer as ander Christene?  Deel met dié wat behoeftig is.  Dis die punt van 16:17-18.  Paulus interpreteer dit so in 2 Korintiërs 8:15.

[6] Onthou God se voorsiening (16:33).  Moenie vir die Here dankie sê as die son skyn, maar dan dadelik weer angstig raak en kla as dinge skeefloop nie.  Die Israeliete het in 15:1 die Here geprys, maar in 17:3 gekla toe daar nie water is nie.  Kon die God wat hulle deur die see gelei het nie vir hulle kos en water voorsien nie?  Ons moet die Here nie op die proef stel en Hom uittart nie (Matteus 4:7).

[7] Wees dankbaar dat dinge soms materieel en geestelik goed gaan.  Wees net versigtig dat jy nie kla as God jou van die bergtop af laat trek nie.  Jy kan nie altyd daar bly nie.  God het groter planne.  Hy wil hê jy moet ook in die vallei groei en leer om Hom te vertrou (15:22, 16:1).

[8] Moenie lewe vir brood en water wat vergaan nie (Johannes 4:13, 6:27).  Soek na die ware brood uit die hemel, na die lewende water:

  • “Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is:  Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet.  En Jesus sê vir hulle:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.  Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.  Toe sê hulle vir Hom:  Here, gee ons altyd hierdie brood.  En Jesus sê vir hulle:  Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (Johannes 6:31-35).
  • “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).

Eet ook die lewende brood wanneer jy Jesus se dood in die nagmaal herdenk (1 Korintiërs 11:23-24), wanneer jy God se wil doen (Johannes 4:34), sy Woord lees (Matteus 4:4), en op Jesus vertrou (Openbaring 2:17).

Hoekom moet jy die Here dank en nie kla nie?  Want God haat dit as mense kla.  Buitendien is dit ‘n slegte getuienis vir ongelowiges.  Die Skrif sê:  “Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Filippense 2:14-15).

Wayne Mack vertel hoe hy as kind uit vrye keuse die lande geploeg het toe sy pa dorp toe is.  Hy wou sy pa trots maak.  Toe sy pa terugkom, het hy na die lande gekyk en gesê:  ‘As jy wou ploeg kon jy dit ten minste reguit gedoen het.’  Moenie so reageer op God se goedheid nie.  Wees dankbaar.

[1] Manna beteken ‘Wat is dit?’

[2] Hierdie is nie dieselfde gebeurtenis as in Numeri 20:2-13 nie.

‘n Oplossing vir ondankbaarheid (en hope ander sondes)

Grumpy mr. Fredrickson

“Wees in alles dankbaar” (1 Tessalonisense 5:18a).

 

As die lewenstorme woedend om jou slaan,

en jy, gans ontmoedig, vrees om te vergaan –

tel jou seëninge, tel hul een vir een,

en jy sal verbaas oor wat God verleen!

Tel jou seëninge, tel hul een vir een,

seëninge jou deur God geskenk!

Tel hul almal, kyk wat God verleen,

en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!

Hierdie woorde kom uit die Halleluja liedboek (lied 245) en is ‘n goeie oplossing teen ondankbaarheid.  “Dink oor wat jy verdien”, het een prediker by ‘n konferensie gesê.  “As jy dink jy verdien ‘n mooi kar, gerieflike meubels, en ‘n gelukkige gesin, sal jy kla indien jy enigiets minder kry.  Maar as jy dink jy verdien die hel, sal jy dankbaar wees vir enigiets meer.”  Dis goeie raard.

 

Ondankbaarheid is ‘n kenmerk van ongeredde mense (Romeine 1:21).  Ateïste is ondankbaar.  Hoe kan dit anders wees?  Vir wie moet hulle dankie sê as dit reën of as hulle kos het – vir die Big Bang of evolusie teorie?  Vir hulleself?  Moenie soos die ongelowiges wees nie, maar dank God in alles (v.18).  Paulus het sy eie raad gevolg en God altyd gedank vir die Tessalonisense se geloof en groei (1:2, 2:13, 3:9-13).  Aan die Efesiërs skryf hy:  “terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus” (Efesiërs 5:20).

 

Moenie soos ‘n kind wees wat so bly is oor sy geskenk dat hy vergeet van die maatjie wat dit vir hom gegee het.  Moenie vergeet om die Here te dank wanneer dinge goed gaan nie.  Moet ook nie so moedeloos word wanneer dinge sleg gaan, sodat jy vergeet om die Here te dank nie.  Toe Job alles verloor het was sy gebed:  “Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer.  Die Here het gegee, en die Here het geneem:  die Naam van die Here sy geloofd!” (Job 1:21).

 

Om te sorg dat jy altyd dankbaar is kan jy gerus Filippense 4:6-9 toepas.  Hier is ‘n voorstel.  Bid oor alles wat in jou lewe gebeur.  Bid sodra die moeilikheid tref.  Pleit by die Here.  En bid met dankbaarheid (v.6).  Dank die Here vir wat jy het.  Dank Hom vir sy verlossing.  Dank hom dat die situasie jou nader aan Hom bring.  Dank Hom dat Hy jou nie volgens verdienste straf nie.  Dank Hom vir ‘n duisend ander dinge.  Skryf sommer drie keer op ‘n dag dinge neer waarvoor jy dankbaar is.  En dink dwarsdeur die dag oor hierdie dinge (v.8).  Kry vir jou ‘n Christen-vriend wat ‘n goeie voorbeeld van dankbaarheid stel en spandeer baie tyd saam met hierdie persoon (v.9).

 

Hier is ‘n klomp dinge waarvoor jy die Here kan dank wanneer jy swaarkry.

  • Die feit dat jy as ‘n Christen ly is ‘n bewys dat jy in Jesus se voetspore loop (1 Petrus 2:21).
  • Die Heilige Gees vertroos ons wanneer ons ly (Johannes 14:16).
  • Jou beproewing sal nie vir altyd duur nie en is kort in vergelyking met die ewigheid (2 Korintiërs 4:17).
  • Jy is nie die enigste een wat swaarkry nie.  Daar is ander Christene wat dieselfde dinge moet deurmaak (1 Petrus 5:9).
  • Geen beproewing kan jou van God se liefde skei of maak dat jy jou redding verloor nie (Johannes 10:28-29, Romeine 8:38-39).
  • Jou siek en swak liggaam sal eendag opgewek word uit die graf en verheerlik word (Romeine 8:23).
  • God gebruik jou beproewing om jou soos Jesus te maak (Romeine 8:28-29).
  • Deur lyding versterk God jou geloof (Jakobus 1:2-4).
  • God het baie beloftes aan jou gegee om jou te help deur die swaarkry (Psalm 119:50).
  • God se Woord help jou in beproewing (Psalm 119:92).
  • Beproewing is ‘n middel om ons weg te draai van sonde (Psalm 119:67, 71).
  • Jy is nie hulpeloos in jou lyding nie.  Jy kan (Psalm 50:15).
  • Daar is ander gelowiges wat saam met jou kan bid in jou lyding (Handelinge 4:23-24).
  • God heilig jou deur swaarkry (Hebreërs 12:10).
  • As jy deur die beproewing is sal jy meer vrug dra (Hebreërs 12:11).
  • Deur lyding bewys God dat jy sy kind is (Hebreërs 12:7-8).
  • Dinge soos volharding, karakter, en hoop word gebou deur lyding (Romeine 5:3-4).
  • As jy swaargekry het en vertroos is weet jy hoe om in die toekoms ander te vertroos wat soortgelyke lyding ervaar (2 Korintiërs 1:4).
  • Jou lyding mag die geleentheid vir iemand se bekering wees.  Hoe sou die Romeinse tronkwag tot bekering gekom het as Paulus en Silas nie in die tronk was nie (Handelinge 16:25-34).
  • As dit met ons sleg gaan vertrou ons dikwels meer op die Here as in die goeie tye (2 Korintiërs 1:9).
  • Christene bid ook gewoonlik meer wanneer dit sleg gaan (2 Korintiërs 1:11).

 

Dit is verbasend hoeveel sondes jy kan doodmaak as jy in alles dankbaar is.  Iemand wat onrein, wellustig, en immoreel is, is ondankbaar vir sy eie huweliksmaat.  Of hy is ondankbaar omdat hy enkel en ongetroud is.  Iemand wat angstig is of murmureer, is ondankbaar oor sy omstandighede.  Iemand wat jaloers is, begeer, of steel, soek wat ander het en is nie dankbaar vir wat hy het nie.  Iemand wat materialisties is, is nie dankbaar genoeg vir sy eie besittings nie.  Iemand wat dobbel is onvergenoegd en ondankbaar vir sy salaris.  Iemand wat te veel eet en homself aan kos vergryp is ondankbaar vir die kos op sy tafel.  Iemand wat kerm en homself self-bejammer het nie die Here genoeg gedank vir die voordele wat hy het nie.

 

Iemand wat depressief is, is dikwels ondankbaar oor sy omstandighede.  Iemand wat sy geld wanbestee soek nog en nog en nog.  Hy is ondankbaar vir wat hy het.  Iemand wat ander kritiseer het nog nooit die Here vir hulle goeie kwaliteite gedank nie.  Iemand wat slegte skuld het is ondankbaar vir sy klein salaris (dis nie ‘n sonde om arm te wees nie).  Iemand met anoreksia is ondankbaar met hoe sy of haar liggaam lyk.  Iemand wat kompeterend is en altyd wil wen is nie dankbaar om tweede of derde te wees nie.  En natuurlik is daar baie ander sondes en probleme (en selfs siektes soos hoë bloeddruk en maagswere) wat weer uit die begenoemde lys spruit.  Al hierdie probleme kan opgelos word deur eenvoudig dankbaar te wees.  Voordat iemand ‘n dankbare lewe kan lei moet hy ‘n nuwe hart ontvang.  Wanneer hy die Here kan dank vir sy redding deur die evangelie sal hy dankbaar wees in alles.

 

‘n Gelowige wat v.16-18 gehoorsaam is ‘heavenly minded’ want in die hemel sal jy dit altyd uitvoer.  Van jou kan dit gesê word (soos van die puritein Richard Sibbes) dat die hemel in jou is voordat jy in die hemel is.