Die blydskap en vrede wat Jesus gee

peaceful

‘n Maand nadat ek klaar gemaak het met skool, het ek by die WIMPY gewerk. Die baas se humeur was so wispelturig en onstabiel soos Kaapstad se weer.  Ek onthou hoe hy een oggend by die restaurant aangekom het en ‘n vrolike deuntjie gefluit het.  Hy het gesien dat iemand by die winkel ingebreek het, en het soos ‘n matroos gevloek.  Sy vrede en blydskap het van die omstandighede afgehang.  Volgens Jh.16:16-33 hoef dit nie so te wees vir Jesus se dissipels nie.

 

Blydskap (v.16-24)

Ek het ‘n dokumentêr oor die blouwildebeeste se migrasie in die Serengeti gekyk. Die film het gewys hoe die Serengeti in die droëseisoen aan die brand slaan, asook hoe die vulkansiese Ol Doinyo berg ontplof en sy as oor die vlaktes strooi.  Aanvanklik is beide rampe nadelig vir die natuur.  Maar in die langduur stel dit sekere minerale in die grond vry, sodat die gras beter kan groei.

 

En so het Jesus se kruisdood en hemelvaart vir die dissipels gelyk of dit nadelig is. Maar die voordele wat daaruit voortgekom het, het vir hulle groot blydskap gebring.  Dit is wat Jesus in v.16-24 vir hulle verduidelik het.

 

Hy het vir die dissipels gesê: “‘n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer ‘n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan.” (v.16).  Wat het Hy bedoel?  Dit was maar ‘n paar ure voordat Hy gekruisig sou word en die dissipels Hom nie meer sou sien nie.  Maar na sy kruisdood was dit ‘n kort tydjie voordat hulle weer die lewende Christus gesien het.

 

Na 40 dae sou Hy teruggekeer het na die Vader toe, sodat hulle Hom nie meer gesien het nie. Maar kort daarna sou Hy die Gees op hulle uitgestort het, sodat sy werke deur die Heilige Gees sigbaar geword het.  En dan sou almal van hulle voor die einde van die eerste eeu in die hemel gewees het, en weer vir Jesus gesien het.

 

Die dissipels het nie verstaan wat Hy bedoel het nie; hulle was te bang om Hom hieroor te vra. In ‘n sekere sin wou hulle nie verstaan het dat Hy oppad was na die Vader toe nie – dit was vir hulle te hartseer (v.6, 14:1, 28).  Hulle het besluit om dit onder hulleself te bespreek (v.17, Lk.9:44-45, 18:31-34).    ‘Hoe lank is ‘n klein tydjie?’ het hulle gewonder (v.18).

 

‘Ek weet wat julle bespreek’ het Jesus in effek vir hulle gesê (v.19). ‘Julle is verward en bekommerd, omdat julle nie weet Ek bedoel het nie.  Wat beteken dit toe Ek gesê het dat julle My oor ‘n klein rukkie nie meer sal sien nie, en dan oor ‘n klein rukkie weer sal sien?’ (v.19).

 

Die dissipels sou oor die kruis getreur het (v.20, 20:11, 13, 19, 24-25, Mk.16:10, Lk.23:27, 48-49, 24:17), maar in hulle haat vir Jesus sou die wêreld hulle hierin verbly het (v.20, 7:7, 15:18, Mt.27:22-23, 25, 27-30, 35-44, 47, Lk.22:63-65). Die dissipels se droefheid sou egter in blydskap verander het, omdat Jesus uit die dood uit sou opstaan (v.20, 20:20, 21:7, Mt.28:7-10, Lk.24:31-35, Jer.31:13).

 

Hulle sou soos ‘n vrou in ARWYP se kraamsaal gewees het: die kraam- en geboortepyne is erg, maar wanneer die kind ‘n kort tydjie later gebore word, onthou sy nie eers die pyn nie (v.21).  Die nuwe klein mensie wat in die wêreld ingekom het, het die ma se pyn in blydskap laat verander (v.21).

 

Net so oortref die blydskap van nuwe lewe deur Jesus se opstanding die droefheid van die kruis (v.21-22, Jes.26:16-21). Niemand kon hierdie blydskap by die dissipels gesteel het nie, omdat dit in die lewende Christus gegrond was, en nie in hulle omstandighede nie (v.22).  Nie eers vervolging kon die vuur van blydskap in hulle harte geblus het nie (Hd.5:41, 16:25, 2 Kor.6:10, Fil.4:4).

 

Op die dag waarin Jesus die Heilige Gees en sy blydskap aan die dissipels gegee het, sou hulle nie meer verward gewees het en vrae gevra het nie (v.23). Hy het juis die Gees na hulle toe gestuur om hulle alles te leer (v.12-13).  As hulle iets wou geweet het, kon hulle Hom in gebed gevra het (v.23).  En wat hulle in sy Naam gevra het, sou die Vader vir hulle gegee het (v.23).  Tot op daardie stadium het hulle nie iets in sy Naam gevra nie, omdat Hy by hulle was en hulle Hom direk kon vra (v.24).  Maar nou moes hulle in sy Naam gebid het, sodat hulle deur hulle gemeenskap met Hom en sy antwoorde op hulle gebede, blydskap kon hê (v.24, 15:11).

 

Dit geld ook vir ons. In Christus kan ons ‘n blydskap hê wat bo ons omstandighede uitstyg.  Dit is ‘n blydskap wat die Heilige Gees vir ons gee (Hd.8:8, 13:52, Rm.15:13), ‘n blydskap wat niemand kan steel nie (v.22).  Om dit weg te vat moet die duiwel en mense die Here by jou kan wegvat, en dit kan nie gebeur nie.  Sonde kan maak dat jou blydskap vir ‘n tyd lank verdwyn.  Maar dan sal die Here jou tugtig, sodat jy jou kan bekeer en vergewe word, en jy weer die vreugde van sy verlossing kan ervaar (Ps.51:14).

 

Hoe kan jy hierdie blydskap behou? Heel eerste moet jy seker maak dat jy nie soos ‘n vrou is wat met ‘n man trou omdat hy geld het, of ‘n man wat met ‘n vrou trou omdat sy goed gebou is nie.  Moenie na Jesus toe kom vir die vreugde wat jy by Hom kan kry nie; moet Hom nie soos ‘n anti-depressant gebruik nie.  As jou groot doel is om blydskap te hê, sal jy dit nie kry nie.  Maar as dit jou doel is om in ‘n nabye verhouding met Jesus te lewe, sal blydskap deel van die pakket wees (v.24, 15:11).

 

Moet daarom nie alewig probeer om in jou hart te kyk of daar blydskap is nie. Om te veel introspeksie of selfondersoek te doen is nie goed nie, omdat jy dan op jouself fokus en nie op Jesus nie.

 

C.S. Lewis het gesê dat ons eerder deur geloof na die objek van ons blydskap moet kyk. As jy bv. na ‘n waterval kyk (het hy gesê) dan geniet jy dit en bring dit vir jou blydskap.  Maar sodra jy op die blydskap fokus om te sien of dit eg is en jy nie meer na die waterval kyk nie, dan verdwyn die blydskap.

 

En so is dit ook in ons verhouding met Jesus. Kyk na Hom en moenie ‘n obsessie met sy blydskap hê, sodat jy eintlik op jouself en jou gevoelens fokus nie.

 

As Hý jou fokus is sal jy met Hom aanhou, selfs wanneer jy nie op die bergtop is nie. En as jy só lewe is dit ook waar dat jy nie vir lank in die donker vallei sal wees nie.  Hy sal jou uitbring, sodat die son van sy blydskap op jou sal skyn.

 

Om gedurig hierdie blydskap te geniet moet jy in gemeenskap met die Here lewe (v.24). Maar om net die Bybel te lees is nie genoeg nie.  Iemand kan elke 6 maande deur die Bybel lees en nie die Here se blydskap ervaar nie, omdat hy dit bloot as ‘n literêre werk bewonder, en nie as ‘n liefdesbrief van sy Vader af nie.  Hy leef nie in ‘n verhouding met die Here nie.  Daarom moet hy die Woord in sy hart bêre en dit gehoorsaam (15:7-11).

 

Dit is ook nie genoeg om net te bid nie. Sommige mense bid baie, maar ervaar nie die Here se blydskap nie.  En hulle sal ook nie, omdat Hy nie hulle gebede beantwoord nie.  Hy antwoord nie hulle gebede nie, omdat hulle nie in sy Naam bid nie (v.23-24).

 

Wat beteken dit om in sy Naam te bid? Dit beteken dat jy besef die Vader sal jou verhoor omdat Jesus in jou plek staan, en nie omdat jy opreg was, lank genoeg gebid het, gevas het, tien mense gekry het om saam te stem, genoeg geglo het, dit uitgespreek het, of vir ‘n maand lank opgehou rook het en dit nou ‘pay back time’ is nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken ook dat jy nie vir dinge bid waarvoor Hý nie sou bid nie. Daarom moet jy vir die dinge bid wat Hy in die Bybel belowe het.  En as jy hiervoor bid, sal jy ontvang en sal jou blydskap volkome wees (v.24).  Jy sal bly wees omdat Hy so vrygewig is, en nie omdat jy ‘n nuwe speelding gekry het nie.  Jy mag vir dinge bid wat nie in Bybel staan nie, solank dit net nie teen die Bybel is nie.  Maar in sulke gevalle moet jy sê:  ‘Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.’ (Mt.26:39).

 

Vrede (v.25-33)

Toe ek uit Jh.13 oor Judas gepreek het, het ek van James Bainham vertel. Vandag wil ek iets byvoeg wat ek nie tóé gesê het nie.  Die Katolieke owerhede het vir Bainham met ‘n ketting aan die brandstapel vasgemaak.  Die stadsklerk het vir die laksman gesê om die biskruit aan die brand te steek.  Die vlam het baie gou nader gekom en binne ‘n paar minute die slagoffer se arms en bene weggebrand.

 

Bainham het egter aan sy Verlosser gedink en uitgeroep: ‘Behold! You look for miracles, you may see one here; for in this fire I feel no more pain than if I were on a bed of down [Afr. donsvere], but it is to me as sweet as a bed of roses.’[1]  Bainham het die Here se vrede in sy hart gehad, ‘n vrede wat Hy aan al sy kinders belowe het.

 

In hfst.14-16, asook in die res van sy lering het Jesus beeldspraak gebruik (v.25, 21, 15:1-8, Mt.13:10-17). Die dissipels het dit nie verstaan nie (2:22, 12:16, 13:7, Mt.13:36), maar deur die Gees sou Hy die Vader aan hulle mistige harte en gedagtes geopenbaar het (v.25, 12-13).  Om die Vader beter te ken kon hulle in Jesus se Naam met Hom gepraat het (v.26).  Dit was nie nodig dat Hy namens hulle moes vra omdat die Vader hulle vir onthalwe verdra het, soos wat ‘n vrou haar skoondogter vir haar seun se onthalwe verdra nie (v.26).

 

Nee, maar die Vader self het hulle liefgehad, en daarom kon hulle met vrymoedigheid na Hom toe gekom het (v.27, 3:16).  Hy het ‘n spesiale liefde vir dié wat glo dat Jesus van die Vader af gekom het, net soos wat ‘n man liewer is vir sy eie vrou en kinders as vir ander mense s’n (v.27-28, 14:21, 23).

 

‘Nóú verstaan ons U!’ het die dissipels vir Hom gesê (v.29). ‘Dit is beter as U nie in beelde praat nie, maar eenvoudige taal gebruik (v.29).  U voorspelling oor U toekoms by die Vader gee vir ons die versekering dat U alles weet, en dat U daarom regtig van God af kom (v.30, 13:19, 16:4, 21:17, 2:24-25, Jes.41:23, 42:9).  En as U alles weet hoef ons U nie te bevraagteken nie (v.30).’  Só moet ons die dissipels se woorde in v.29-30 verstaan.

 

Die dissipels het gedink dat dit nie meer nodig was om vrae te vra nie, omdat hulle Jesus se lering verstaan het (v.23, 29-30).  Jesus het egter vir hulle gewys dat hulle te vinnig gepraat het.  ‘Is julle seker dat julle nou in My glo?’ het Hy in v.31 vir hulle gevra.  ‘Die uur is hier dat almal van julle My gaan verlaat om in julle huise weg te kruip.  Julle sal soos skape uitmekaar spat wanneer die wolwe op hulle afstorm (v.32, Sg.13:7, Mt.26:31).’  Duidelik was hulle geloof in Jesus nie so sterk soos wat hulle gedink het nie.

 

Maar al het hulle Hom ook alleen gelos was Hy nie heeltemal alleen nie, omdat sy Vader met Hom was (v.32, 8:29). Die Vader sou vir ‘n tydjie sy guns onttrek het (Mt.27:46), maar aan die einde van sy lewe het Jesus gebid en gesê:  “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Lk.23:46).  Jesus het dan nie gejok toe Hy gesê het dat die Vader by Hom was nie.

 

En soos wat die Vader aan die einde van alles sy vrede aan Hóm gegee het, gee Hy dit ook aan ons (v.33, 14:27). Ons het dit veral nodig as ons in ‘n situasie soos die dissipels s’n is, waarin dit vir ons voel of die Here ons verlaat het (13:36).  Ons het dit nodig wanneer ons verward is en nie weet wat die Here besig is om te doen nie (v.19).  Ons het dit nodig wanneer die toekoms bleker lyk as wat ons besef het (v.32).  Ons het dit nodig wanneer ons diep bedroef is (v.6, 20).

 

Hoe kan ons in hierdie tye die Here se vrede ervaar? Om die vrede van God te hê, moet jy eers vrede met Hom hê.  En dit kan jy net kry as Hy die sonde wat verdeeldheid tussen jou en Hom gebring het, vergewe.  Hoe kan jou sonde vergewe word?  Hoe kan Hy jou sondeskuld afgeskryf?

 

Jesus het aan die kruis gesterf en sy Vader se straf oor ons sonde geabsorbeer, soos wat droë grond water absorbeer. As jy op Jesus vertrou om jou te red en in Hom glo, sal die Vader sy kruisdood in jou plek aanvaar en jou sonde afskryf.

 

Maar omdat daar nou vrede tussen jou en God is, sal die wêreld jou haat (15:18-21). Ons kan sê dat die wêreld se vervolging ‘n gegewe is (v.33, Hd.14:22).  Maar ons kan ook sê dat die vrede van God in ons harte ‘n gegewe is (v.33).  Ons hoef dan nie bang te wees as die wêreld probeer om die Christelike geloof soos ‘n kers dood te blaas nie.  Jesus het die wêreld deur sy kruisdood en opstanding oorwin, en daarom kan die wêreld nie suksesvol wees nie (v.33).

 

Omdat ons in Jesus glo is sý oorwinning oor die wêreld ook óns s’n (Rm.8:37, 1 Kor.15:57, 1 Jh.5:4-5, Op.3:21, 12:11). Dit beteken dat die wêreld ons nie by die Here kan wegvat, of ons erfdeel in die hemel kan steel nie.  Hoe sal hulle dit regkry as die Oorwinnaar, die Here, aan ons kant is (Rm.8:31)?

 

En tog kom die Here se vrede nie outomaties na ons harte toe nie. Ons moet die middele gebruik wat Hy tot ons beskikking gestel het:

 

  • Bid en wees dankbaar (Fil.4:6-7, 2 Ts.3:16, 1 Pt.5:7).
  • Leef in vrede met ander mense (Ef.4:3, Kol.3:15, Heb.12:14).
  • Wees lief vir die Woord en word met die Gees gevul (Ps.119:165, Gal.5:22).
  • Bewaar jou gedagtes en dink reg (Rm.8:6).
  • Bely jou sonde en bekeer jou daarvan (Rm.5:1, Kol.1:20).

 

Kan ek jou reguit vra of jy hierdie vrede het? Nee? Hoekom nie? Is dit omdat jy nog ongered is? Toe my swaer tot bekering gekom het, het hy gesê dat dit vir hom gevoel het soos ‘n las wat van sy skouers afval. Hy het vrede gehad, en jy kan dit ook hê as jy na Jesus toe kom.

 

Is jy gelowige wat nie die Here se vrede in jou hart ervaar nie? Is dit omdat jy nie jou probleme in gebed na die Here toe vat nie? Skeep jy miskien die Bybel af? Is daar ‘n sonde wat jou gewete pla? Moet jy miskien vrede maak met iemand? Maak reg wat verkeerd is.

 

As jy dít gedoen het sal jy nie net vrede hê nie, maar ook blydskap. “those who plan peace have joy.” (Sp.12:20, ESV).

 

[1] J.H. Merle d’Aubigne, The Reformation in England: vol.1, p.101

Advertisements

Laat U Koninkryk kom

’n Siening oor die eindtyd wat jou lewe kan verander

mighty-river

Soos jy seker weet kom my tema uit die Onse Vader uit. Wat beteken dit om te bid dat God se Koninkryk sal kom?  Natuurlik beteken dit dat ons vir die wederkoms moet bid (is daar iets groter as dit?).  Maar oor die afgelope paar jaar het ek besef dat dit nóg iets beteken.  Ek hoop dat die waarheid hiervan in Op.11:15-19 vir jou so revolusionêr sal wees soos wat dit vir my was.

 

God se Koninkryk (v.15)

Het jy al gehoor van die lewegewende fontein wat uit die berg uitstroom? Dit loop teen die rotse af en word later ‘n rivier wat deur ‘n groen vallei vloei.  Op plekke is die rivier bruin, breed en vlak, en op ander plekke is dit donker blou, smal en diep.  Waar die rivier naby die see uitmond is dit 100 km breed.  Uiteindelik vloei dit in die see in, sodat daar net water is so ver as wat die oog kan sien.

 

Hierdie fontein, rivier en see is die Koninkryk van God. Dit het as ‘n kristalhelder stroom by die kruis begin.  By sy oorsprong het die fontein van die Koninkryk uit 12 apostels en paar ander dissipels bestaan.  Dit het egter baie vinnig ‘n rivier van 3000 en toe meer as 5000 bekeerlinge geword (Hd.2:41, 4:4).  Binne ‘n paar dekades het die rivier het deur die hele Romeinse Ryk gevloei en nuwe lewe gegee vir tienduisende sondaars.

 

In die eerste twee of drie eeue wat gevolg het, het meer as ‘n miljoen mense hierdie rivier se lewegewende water kom drink. Met tye in die kerk se geskiedenis het die rivier as gevolg van vals lering en sonde, bruin en vlak gevloei.  Soms was die rivier diep en blou, omdat dit gesond was.  Maar dit was smal, omdat mense nie regtig in die kerk belanggestel het nie.

 

Vandag vloei die rivier nogsteeds. Dit het gegroei van ‘n bergstroompie wat uit ‘n paar dissipels bestaan het, tot by honderde miljoene gelowiges dwarsoor die wêreld wat soos bome langs die rivier se walle staan.  As die rivier naby aan die einde van die geskiedenis kom, sal dit sy walle oorstroom soos die Okavango Delta in Botswana.  Oral waar dit kom sal dit lewe gee, sodat dit die woestyn van die wêreld in ‘n paradys sal verander (Jes.35, Esg.47:1-12).  Die meerderheid van die wêreld se bevolking sal die Here ken:  “die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek.” (Jes.11:9).  By Jesus se wederkoms sal die rivier van God se Koninkryk in die see inloop.  Die ganse aarde sal vir ewig en altyd onder Jesus se voete wees.

 

Dit is hoe ek God se Koninkryk verstaan. Dit het as ‘n stroompie uit die berg van Golgota ontspring.  Dit word groter soos wat die geskiedenis vorder.  Dit sal sy walle oorstroom in ‘n magtige herlewing wat tot die bekering van die nasies sal lei.  Dit sal in die see invloei wanneer Jesus weer kom.  Kom ek wys vir jou waar in die Bybel ek my idees vandaan kry.

 

In hfst.8 het God vir die sewe engele trompette gegee om sy oordele aan te kondig. Die eerste ses engele het in hfst.8-9 op hulle s’n geblaas, en nou het die sewende engel op syne geblaas om God se Koningskap aan te kondig (v.15-19, vgl. 1 Kon.1:34).  Toe hy dit gedoen het was daar harde stemme wat uitgeroep het dat God se Koninkryk gekom het (v.15, 12:10).  Hoe moet ons dit verstaan?

 

In Ps.2 het God die nasies tot aan die eindes van die aarde as sy Gesalfde Seun se erfdeel gegee. Wanneer sou Hy dit ontvang het?  Om die erfporsie te kry moes die testamentmaker gesterf het.  Toe Jesus dus aan die kruis gesterf het, het Hy die nasies met sy bloed gekoop (5:9).  Hulle het sy eiendom geword (v.15).

 

Voor dit het hulle vir die duiwel geluister en hulleself aan hom onderwerp (Lk.4:5-6). Maar deur die kruis het Jesus vir Satan vasgebind en is Hy besig om die nasies by hom terug te vat (Mt.12:28-29, Jh.12:31, 16:11).  Die Vader het vir Jesus mag oor die nasies gegee, en die titel-akte van die Koninkryk in sy Naam geregistreer (v.15, Mt.28:18, Lk.22:29).  Jesus het in ‘n wolk opgevaar hemel toe om die titel-akte te ontvang (5:1-7, Dn.7:13-14).  Hy wag nie om eers in die toekoms bekroon te word nie, maar het onmiddellik as Koning aan die Vader se regterhand gaan sit (Ef.1:20-22).  Reeds toe Hy op die aarde was het Hy gesê dat die Koninkryk op hande was (Mt.3:2, 4:17, 10:7, 12:28, Lk.10:9, 11, 17:20-21).

 

Op papier behoort die nasies dan aan Jesus, maar in die praktyk loop baie van hulle nog agter die duiwel aan (2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19). En tog sal dit nie vir ewig so bly nie.  Bietjie vir bietjie is Jesus besig om dít wat na regte syne is (Mt.28:18) by die duiwel terug te vat (Mt.28:19).  Sy Koninkryk is soos ‘n rots wat op die standbeeld van groot en magtige wêreldryke geval het.  Hy het die Babiloniese, Persiese, Griekse en Romeinse ryke verpletter.  Nou is die Rots van sy Koninkryk besig om te groei, totdat dit ‘n groot berg sal word wat die hele aarde vul (Dn.2:35, 31-45).  Jes.9:6 praat van die vermeerdering (‘increase’ in die ESV) van sy heerskappy.

 

Toe Jesus die titel-akte ontvang het, het Hy die sandkorrel-grootte mosterdsaadjie van die Koninkryk in die tuin van die wêreld geplant, en het Hy die teelepel gis van die Koninkryk in die deeg van die nasies in geknie (Mt.13:31-33). Die Koninkryk het klein begin, maar is besig om te groei en sal uiteindelik die wêreld oorneem (Ps.72:8).  Uit die vier windrigtings sal die nasies instroom om vir Jesus te aanbid (Ps.2, Lk.13:29).  Van waar die son in die ooste opkom tot waar dit in die weste ondergaan sal die nasies en hulle konings vir Jesus as die groot Koning prys (21:24, Ps.72:11, 113:3, Jes.49:7, Mal.1:11).  Omdat Hy nie kan sterf nie, sal Hy nie soos aardse konings ‘n opvolger hê nie; Hy en die Vader sal vir ewig regeer (v.15, Eks.15:18, Ps.145:13, Dn.2:44, 4:3, 34, 7:13-14, Lk.1:33).

 

God se koms (v.16-18)

Die ou Afrikaanse Baptiste het ‘n siening oor die eindtyd gehandhaaf wat tipies was van die Suidelike Baptiste in Amerika. Die meeste van ons is hiermee bekend, omdat dit nogsteeds ‘n baie populêre siening is.  Twee van my beste vriende handhaaf hierdie siening, en ek is seker dat ‘n klomp van my lesers en hoorders dit glo.

 

Dié siening sê dat Jesus se Koninkryk eers sal aanbreek wanneer Hy weer na die aarde toe terugkeer. Ek het reeds gewys dat Jesus se Koninkryk by sy eerste koms weggespring het, en dat dit by sy tweede koms vervul sal word en oor die wenstreep sal hardloop.  In v.16-18 sien ons hoe Johannes die twee bymekaar bring.

 

God en die Messias se Koningskap was so hoog verhewe, dat selfs die 24 ouderlinge van hulle trone afgeklim het om Hom te aanbid (v.16, 4:4, 10, Kol.1:16). Hulle het Hom as die Almagtige Here en God gedank en aanbid (v.17).  In 1:8 en 4:8 het Johannes Hom beskryf as die Een wat is en wat was en wat kom.  In 11:17 het hy ‘wat kom’ uitgelos, omdat die Koninkryk in die eerste eeu reeds in sy begin stadium gekom het (Mt.10:23, 16:28, vgl. notas hierbo).  Die 24 ouderlinge het dit bely toe hulle gesê het dat God deur sy groot mag begin het om te heers (v.17, ESV, Gk.).[1]  Hy sal regeer tot by die wederkoms en vir ewig daarna.

 

Die nasies wat nie die knie wil buig nie, maar in hulle woede teen Hom wil opstaan, sal sy toorn voel en verpletter word (v.18, Ps.2:1-12, 110:5, Hd.4:25-27). Hulle sal baie gou agterkom dat sy toorn sterker is as hulle s’n (v.18, Ps.2:1, 5).  By Jesus se eerste koms het hulle Hom nie as die Koning erken nie (v.15-17).  Daarom sal Hy hulle by sy tweede koms uit die dood uit opwek en hulle oordeel (v.18, Op.20:12).[2]  Hy sal dié wat verwoesting gebring het, vir ewig in die hel verwoes (v.18, 2 Ts.1:6-7, 9).  Dan sal hulle die knie moet buig en erken dat Hy die Here en Koning is (Fil.2:10-11).

 

Vir God se kinders is die oordeelsdag nie iets om voor bang te wees nie, omdat Hy hulle gaan beloon en nie gaan oordeel nie (v.18, 22:12, Mt.10:41-42, 25:14-30, Lk.6:22-23, 12:33, Jh.5:24, Rm.8:1, 1 Kor.3:12-15, 2 Kor.5:10, 2 Jh.8, Jud.24). Hy gaan nie net profete en predikante beloon nie, maar almal wat sy Naam vrees, liefhet en respekteer – klein en groot (v.18, Ps.115:13).

 

God se tempel (v.19)

Iemand het vir my kinders ‘n boek gegee wat vir ‘n mens leer om goed te teken. Wanneer jy bv. ‘n dolfyn teken wat uit die water uitspring, leer die boek vir jou om verskillende grootte sirkels en ovale te trek.  Later voeg ‘n mens driehoeke by, en uiteindelik teken jy die buitelyne en die oë.  Heel laaste voeg jy skadu en kleur by.

 

Sal dit vir jou vreemd wees as iemand meer van die ovale, driehoeke en sirkels hou as van die finale produk? En tog is baie mense so wanneer dit by die eindtyd kom.  Die tempel met sy priesters, offers en meubels was maar net ‘n skadubeeld van die volheid wat daar in Christus gekom het (sien Hebreërs).  Dit sal baie vreemd wees as die vervulling van hierdie dinge in Christus weer vir die skadubeelde verruil word.  Op.11:19 wys juis vir ons dat die aardse tempel tot ‘n einde gekom het, en dat dit met ‘n geestelike tempel vervang is.  Ons wag dan nie vir ‘n herboude kliptempel in die toekoms nie.

 

Johannes het gesien hoe God se tempel in die hemel oopgegaan het (v.19). Omdat die aardse tempel op ‘n einde was, het die hemelse een oopgegaan.  Johannes het die goue ark van die verbond binne-in die Allerheiligste van die tempel gesien (v.19).  Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God die tempelgordyn wat voor die ark was van bo na onder geskeur (Mt.27:51).  In 70 n.C. het Hy die Romeine Jerusalem toe gestuur om die aardse tempel te verwoes.

 

Die les is dat dit nie net meer die hoëpriester was wat voor die Here kon kom nie. Deur Christus kon almal nou in God se heilige teenwoordigheid ingekom het (Heb.4:15-16, 10:19-22).  Toe God die aardse tempel deur die storm van sy oordeel verwoes het (v.19b), het Hy ‘n nuwe tempel opgerig:  die Jode en heidene wat in die Messias geglo het, was sy nuwe tempel (v.19a, 1, 1 Kor.3:16, Ef.2:11-3:9).

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Lewe soos iemand wat glo dat Jesus Koning oor die nasies is, en dat Hy uiteindelik oor elkeen van hulle sal regeer (v.15, Ps.2:8-12).  Moenie aan ‘n pessimistiese eindtyd-siening vashou wat sê dat die Verenigde Nasies, die Europese Unie, Rusland of die Moslems die wêreld sal oorneem nie.  Moenie moedeloos en vreesbevange raak oor die politieke onstuimighede in ons land en wêreld nie.

 

Dink eerder daaraan dat Jesus die Koning van die konings en die Here van die here is (19:16). Hy is die Koning van die nasies wat volke se leiers aanstel en afsit (v.15, Ps.22:29, Dn.2:20, Rm.13:1).  Hý sal besluit wanneer die Nasionale Party sy asem uitblaas, wanneer die ANC aan bewind kom, wanneer Mandela doodgaan, wanneer Mbeki uitgewerk word, wanneer Zuma regeer en of Malema tot ‘n val gaan kom of nie.

 

Dit lê dan nie binne die president se mag om te besluit of die ANC sal regeer totdat Jesus weer kom of nie. Jesus is die Koning wat besig is om sy planne uit te werk.  Hý beheer die geskiedenis van volke en hulle konings (Sp.21:1, Dn.4:35).  Daarom moet ons nie lewe asof die antwoord by ‘n sekere politieke party of leier lê nie.  Ons moenie lewe asof Donald Trump die wêreld se probleme gaan oplos nie.  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die Here.” (Sp.29:26).

 

Onthou asb. dat Jesus se Koninkryk geestelik en nie polities van aard is nie.  Jesus het gesê:  “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie.  Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (Jh.18:36).  Die kerk moet dan op die verspreiding van die evangelie fokus, en nie op sosiale en politieke aksies nie.

 

Deur die eeue het die kerk haar fokus verloor, sodat sy die regering se rol ingeneem het en betrokke geraak het in oorloë, die invordering van belasting, die toepassing van die doodstraf op ‘ketters’, politiese samesprekings met ander lande, sosiale aksies wat niks met die redding van mense se siele te doen het nie, die daarstelling van politieke wette, en allerhande ander twak. In die proses het die kerk haar plig versuim om die evangelie aan die nasies te verkondig.

 

Vandag nog is die kerk in ons land skuldig aan dieselfde sonde. Ons het die swart mense gefaal, omdat ons die evangelie het, maar nie ‘n daadwerklike poging aangewend het om dit by hulle uit te bring nie.  Sendelinge moet van oorsee af kom om die werk te doen.  Ons fokus meer daarop om kermisse te hou en komberse uit te deel, as om die evangelie met mense te deel.  Ons spandeer duisende rande aan vermaaklikheid wat jong mense sal trek, maar gee dan vir hulle ‘n oppervlakkige boodskap wanneer hulle by die kerk opdaag.

 

Ons gemeente, denominasie en ek self is nie onskuldig nie. Wat het ons in die afgelope twee jaar gedoen om vir mense van ons groot en goeie Koning te vertel?  Hoeveel geld het ons op denominasionele- en gemeentevlak uitgegee om toe te sien dat mense die Goeie Nuus van Jesus Christus hoor?  Hoe gaan ons in die komende jaar hierop verbeter?

 

As ons die evangelie effektief gaan verkondig moet ons hoopvol, vrymoedig en dapper wees. Ons moet getuig asof Jesus die Koning is wat vereis dat die nasies voor Hom moet buig, asof hulle reeds syne is en Hy nog net hulle harte na Hom toe moet draai.  Die evangelie kan nie kop-onderstebo of stert-tussen-die-bene na Jesus toe terugkeer nie, en daarom moet ons uitgaan met die vertroue dat die evangelie suksesvol sal wees.

 

“Jou God is Koning!” is wat ons vir die mense moet sê (Jes.52:7). As hulle die knie in geloof en bekering voor Hom buig, sal Hy hulle vergewe.  Maar as hulle volstrek weier om die wit vlag te waai, sal Hy hulle vernietig (v.18, Ps.2:9-12).  Dit is tyd dat ons wegdoen met die benadering wat maak asof Jesus hulpeloos moet wag vir sondaars om hulle harte vir Hom te gee.  Jesus eis van jou dat jy weergebore moet word en dat jy jou moet bekeer, want “as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Jh.3:3).

 

Wat Paulus vir die Korintiërs gesê het geld ook vir ons: “Moenie dwaal nie!  Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” (1 Kor.6:10).

 

Laat ons dan met ‘n berouvolle hart voor die Here buig en Hom as ons Koning aanbid (v.16). Laat ons vir die verspreiding van die evangelie en vir ‘n ware herlewing bid, sodat die nasies (ook ons eie land) Jesus as die Koning sal erken en aanbid.  Laat ons bid dat Jesus weer na die aarde toe sal terugkeer, sodat ons vir ewig onder sy goeie en regverdige heerskappy kan lewe.  Laat ons nie vergeet om te bid volgens die patroon wat Jesus vir sy dissipels geleer het nie:  “laat u koninkryk kom” (Mt.6:10).

 

My gunsteling aanhaling van Spurgeon (wat ek seker al holrug gery het!) sluit mooi hierby aan: “if our Lord does but stamp His foot, He can win for Himself all the nations of the earth against heathenism, and Mohammedanism, and Agnosticism, and Modern-thought, and every other foul error.  Who is he that can harm us if we follow Jesus?  How can His cause be defeated?  At His will, converts will flock to His truth as numerous as the sands of the sea.”[3]

 

[1] A.T. Robertson, Word Pictures in the New Testament, nota op Op.11:17

[2] Sommige dink dalk dat dit nie geldig is om tussen v.17 en 18 van Jesus se eerste na sy tweede koms toe te spring nie. Maar doen die Ou Testament profete dit nie dikwels nie (sien bv. Jes.11:1-9)?  Buitendien het ek reeds gewys hoe die Koninkryk reeds by Jesus se eerste koms begin het, en hoe dit stadiger maar seker besig is om te groei totdat Hy weer kom.

[3] C.H. Spurgeon, An All-Round Ministry, p.396

‘n Oop brief aan kompromerende kerke

Compromised Church

Jy het seker al gehoor van die gemmerbrood mannetjie wat oor die rivier wou kom? Hy het op die jakkals se rug geklim.  Die jakkals het deur die rivier geswem.  Toe die water dieper raak, het hy vir die gemmerbrood mannetjie gesê om op sy skouers te klim.  Die water het dieper geraak, sodat hy op die jakkals se nek moes klim… toe op sy kop… toe op sy neus… en toe…

 

Dit is hoe kompromie werk. Ons dwaal stadig maar seker van die Here en sy Woord af weg.  Uiteindelik is ons so ver heen dat ons nie meer kan terugdraai nie.  En voordat ons dit besef, dan sluk die wêreld en sy sonde ons heel in.  In Op.2:18-29 waarsku die Here sy kerk hierteen.

 

Die aanhef (v.18)

Jesus het sy brief gerig aan die boodskapper of leraar van die gemeente in Tiatire (v.18). Tiatire was tussen Pergamus en Sardis, omtrent 50 km van die kus af.  Vandag is die dorp Ak-Hissar oor die ruïnes van die ou stad gebou.  Volgens Hd.16:14 het Lidia van Tiatire af gekom.  Sy en haar gesin het onder Paulus se prediking tot bekering gekom (Hd.16:14-15).  Miskien het een van húlle die evangelie met die mense in Tiatire gedeel, sodat daar later ‘n gemeente ontstaan het?  Of dalk het Paulus self in Tiatire gaan preek (Hd.19:10)?

 

Die mense van Tiatire het die songod Apollo as hulle beskerm-god beskou. Volgens hulle was Apollo die seun van die oppergod Zeus.  Hulle het verder geglo dat die keiser Apollo in mensevorm is.  Hulle aanbidding van Apollo was dus baie nou verbind aan hulle aanbidding van die keiser.[1]  Apollo is uitgebeeld met vlammende strale en voete van gepoleerde koper.[2]

 

Maar in v.18 het Jesus gesê dat en nie Apollo nie, die Seun van God is wie se oë soos vlamme van vuur, en wie se voete soos gepoleerde koper is (v.18, 1:14-15, Dn.10:6). Jesus is die Son van Geregtigheid, die afskynsel van God se heerlikheid (Mal.4:2, Heb.1:3). Jesus, en nie die keiser nie, is God in mensevorm (Jh.1:14, 1, 18).  Met sy vlammende oë het Jesus gesien wat in die gemeente aangaan (19:12, Sp.20:8, Rm.2:16, Heb.4:13).  Met sy voete wat soos soliede koper geblink het, sou Hy die goddelose mense in die gemeente vertrap het (14:19, Ps.110:1).

 

Die komplement (v.19)

Wanneer ‘n egpaar ernstige huweliksprobleme het, het hulle dikwels nie ‘n goeie ding van mekaar te sê nie. Gewoonlik oordryf hulle ook:  ‘Sy kan nooit jammer sê nie… Hy is altyd besig om my af te breek.’  Jesus is nie so nie.  Selfs in ‘n kerk met ernstige probleme was daar dinge waaroor Hy hulle geprys het.

 

Met sy vlammende oë (v.18) het Jesus die gemeente se goeie werke gesien (v.19). Hulle liefde onder mekaar en geloof in die Here was prysenswaardig (v.19, Ef.1:15).  Hulle geloof het tot diensbaarheid gelei (v.19, Gal.5:13).  Hulle het geduldig volhard in die vervolging wat hulle moes deurmaak (v.19, 1:9).  Hulle het in elke een hierdie kwaliteite gegroei (v.19, Fil.1:9, 1 Ts.4:1, 9-10, 2 Ts.1:3).  Die Efesiërs het hulle eerste liefde verloor (v.4-5), terwyl die gelowiges in Tiatire gegroei het (v.19).

 

Die vermaning (v.20-23)

Tiatire was bekend vir sy handelsgildes of vakbonde. Hulle het wol, linne, klere, persstof, leer, brode, kleipotte, koper, en meer gemaak.[3]  Omdat Lidia persstof verkoop het (Hd.16:14), het sy waarskynlik voor haar bekering aan een van hierdie vakbonde behoort.  Elke vakbond het ‘n beskerm-god gehad.  Om dus ‘n lid te word, moes jy die god aanbid het en aan immorele feeste deelgeneem het.[4]  Dié wat dit nie gedoen het nie, het hulle werke verloor.[5]  Dit is teen hierdie agtergrond wat ons v.20-23 moet verstaan.

 

Die feit dat die gemeente geestelik gegroei het (v.19), het nie hulle sonde verskoon nie (v.20-23). Jesus het dit teen die gemeente gehad dat hulle sonde verdra het (v.20).  Hulle het seker gedink dat dit liefdevol is om nie die oortreders se sonde uit te wys en kerkdissipline toe te pas nie (v.19-20, 1 Kor.5:2, 6).  Hulle het toegelaat dat Isebel sommige gemeentelede tot geestelike en fisiese egbreuk versoek (v.20, 14-15).  Of dit haar regte naam was weet ons nie.  Dit is egter duidelik dat daar ‘n ooreenkoms tussen haar en die Isebel van die Ou Testament is.

 

Lg. was die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs. Sy het met koning Agab van Israel getrou.  Agab was bekend vir sy boosheid (1 Kon.16:29-33).  Isebel was nog boser as hy.  Dit was sý wat vir hom gesê het om vir Baäl te aanbid (1 Kon.21:25-26, 2 Kon.8:18, 9:22).  Sy het probeer om vir Elia dood te maak (1 Kon.19:1-2).  Om Nabot se wingerd te kry, het sy vals getuies teen hom aangehits en hom laat doodmaak (1 Kon.21).  A.g.v. haar boosheid het die Here gesê dat die honde in Jisreël haar lyk sal opvreet (1 Kon.21:23).  Dit het presies so gebeur, sodat net haar skedel, voete, en handpalms oorgebly het (2 Kon.9:30-37).

 

Soos sy, het die Isebel van Op.2:20 sommige lidmate versoek om in afgodery betrokke te raak. Sy het seker vir hulle gesê dat dit nie verkeerd is om aan die vakbonde te behoort as dit beteken het dat hulle hulle werk kon behou nie.  Haar redenasie het waarskynlik so iets geklink:  ‘Dit maak mos nie saak as jy die afgodsfeeste bywoon nie.  Dit is nie asof ‘n afgod bestaan nie.  Ons weet mos dat daar net één God is.  Jy weet natuurlik wat met jou gaan gebeur as jy nie by die feeste betrokke raak nie?  Jy gaan jou werk verloor en moontlik ook vervolg word.  Is dit regtig die moeite werd?  En is dit reg dat jou gesin ondergaan, net omdat jy nie ‘n stukkie afgodsoffervleis wil eet en ‘n aandjie saam met my wil geniet nie?  Komaan!  Dis mos nie so erg nie?  Hou op om selfsugtig te wees en dink ‘n bietjie aan jou arme kinders.’

 

Om haar saak te versterk het sy gesê dat sy ‘n profetes is. Jesus was ontevrede dat hulle haar en haar sonde verdra het (v.20).  Eintlik moes hulle haar van die gemeente afgesny het, en gesê het dat sy nie meer welkom is nie (1 Kor.5:2, 13).  Jesus het vir haar tyd gegee om haar te bekeer, maar sy wou nie (v.21, Rm.2:4, Mt.18:15-17).  Daarom het Hy gesê dat Hy haar op ‘n siekbed sou werp (v.22).  Omdat die kerk haar nie gedissiplineer het nie, sou die Here dit persoonlik gedoen het.  Dit is nie onmoontlik dat sy ‘n seksuele siekte gekry het nie.  Dis asof die Here vir haar gesê het:  ‘Omdat jy aanhoudend in die bed is, sal Ek seker maak dat jy permanent in die bed is!’

 

Dié wat saam met haar egbreuk gepleeg het, sou Hy in groot verdrukking gewerp het (v.22, 10, 3:10, 7:14, Mt.24:21). Indien hulle egter met hulle sonde opgehou het, sou Jesus hulle gespaar het (v.22, 3:10).  Hy het ook besluit om Isebel se kinders dood te maak (miskien die kinders waarmee sy deur haar immorele leefstyl swanger geraak het?).  In die Here se oë was haar sonde baie ernstig (v.23, 2 Sm.12:14).  Die ander gemeentes sou hiervan gehoor het (v.23, 29).  Hulle sou geweet het dat die Here se vlammende oë ons geheime emosies (niere) en gedagtes (harte) sien en deursoek (v.23, 18, Ps.139:1, 23, Jer.20:12, Lk.16:15, Jh.2:24-25, Hd.1:24, Rm.8:27).  Omdat Hy ons geheime gedagtes ken, kan Hy elke mens regverdig oordeel en vergeld (v.23, 22:12, Ps.62:13, Jer.17:10, Mt.16:27).

 

Die aansporing (v.24-25)

Het jy al te doen gekry met Christene wat vir jou baie van die duiwel, demone, geestelike oorlogvoering, en duiwel-uitdrywing kan vertel, maar wat ‘n middelmatige kennis van die Bybel het? Hulle dink dat hulle dinge van die duiwel weet waarvan Gerda-gewone-Christen niks weet nie.  Hulle begeer om dinge van die duiwel te weet wat nie in die Bybel is nie.  Partykeer gebeur dit dat hulle meer van die duiwel weet as van Jesus.  Isebel was so, en die Here het haar nie hiervoor geprys nie.  Hy het egter die gelowiges geprys wat nie gaan krap het waar dit nie juk nie (v.24-25).

 

Net soos wat daar oortreders in die gemeente was, was daar ‘n klomp mense wat nié in hierdie dinge betrokke geraak het nie (v.24). Isebel het seker gesê:  ‘Om die duiwel te oorwin moet jy verstaan hoe hy werk, en daarom is dit goed om afgodery uit te toets.  Net dáár kan jy die diep dinge van Satan leer.  Die gemiddelde Christen is weet niks van hierdie dinge nie.  Moenie soos hulle wees nie, maar probeer agter die kap van die byl kom deur hierdie dinge vir jouself te ondersoek.  Dit maak in elk geval nie saak wat met jou liggaam doen as jou gees rein is nie’ (v.24).

 

Dié wat nie vir Isebel geluister het nie, sou nie verder belas word nie (v.24, Hd.15:28-29). Jesus se las was lig (Mt.11:30, 1 Jh.5:3).  Die gelowiges moes net aan sy Woord vasgehou het, totdat Hy gekom het om hulle te beloon (v.25, 3:11).  Dit sou Hy by die wederkoms gedoen het (20:11-15), maar Hy sou ook voor die tyd na die verskeie gemeentes toe gekom het om hulle te seën en te bestraf (v.5, 16, 3:3, 10-11, 20).

 

Die belofte (v.26-29)

Nie alle atlete is ewe gedissiplineerd nie. Om toe te sien dat hulle hulleself dryf om die goue medalje te wen, moet die afrigter aan maniere dink om hulle te motiveer.  Vir party van hulle help dit as hy op hulle skreeu; hulle is bang en doen dan wat hy sê.  Maar met ander moet hy die spreekwoordelike wortel voor die donkie se neus hou:  hy moet hulle aan die goue medalje herinner.  Hulle moet as’t ware die beloning sien sodat hulle vinniger kan hardloop.

 

En so werk Jesus ook met sy kerk. In v.26-28 belowe Hy om die oorwinnaars te beloon.  Ek is seker dat dit baie van hulle gedryf het om tot die einde toe vas te byt.

 

Jesus sou ‘n beloning gegee het aan dié wat die oorwinning behaal het (v.26). Om te oorwin moes hulle aangehou het om sy werke te doen (v.26), opgehou het om Isebel s’n te doen (v.22), nie die diep dinge van Satan geleer het nie (v.25), gegroei het (v.19), en tot die einde toe volhard het (v.26).  Aan hulle sou Hy die mag gegee het om met ‘n ysterstaf oor die nasies te heers en hulle soos kleipotte stukkend te slaan (v.26-27).  Jesus sou hierdie mag vir hulle gegee het, soos wat sy Vader dit aan Hom gegee (v.27, 3:21, 5:10, 12:5, 19:15, Ps.2:8-9, Dn.7:13-14, 28, Mt.28:18, 1 Kor.6:2).  Hierdie beloning sou hulle in die duisendjarige vrederyk ontvang het (20:4, 6).  Ek kan nie nou in detail daarop ingaan nie.  Jy sal ongelukkig moet wag totdat ons by Op.20 kom.  Al wat nou saakmaak is dat Jesus belowe het om sy kinders te beloon.

 

Volgens v.28 sal dié wat die oorwinning behaal ook die Môrester, nl. Jesus self ontvang (22:16, Nm.24:17, 2 Pt.1:19). Net soos wat die môrester (Venus) vir ons wys dat dit amper dag is, wys Jesus hiér dat Hy binnekort sou kom om sy kerk te beloon en om sy vyande te oordeel.  Dié wie se geestelike ore oop was, moes geluister het na wat die Gees vir die gemeentes sê (v.29).

 

Die toepassing

Moenie soos Tiatire wees wat die Here en sy standaarde afwater nie. Net soos wat jy nie jou huweliksmaat met ander deel nie, wil Jesus jou nie met ander gode deel nie (Jk.4:5).  Onthou asseblief dat enigiets wat vir jou belangriker is as die Here, ‘n afgod is (Mt.6:24, Kol.3:5).

 

Soos die gelowiges in die Tiatire, word Christene vandag nog versoek om kompromieë aan te gaan. Omdat die samelewing so vol van sonde is, is ons soos Lot in Sodom, en raak ons gewoond daaraan (2 Pt.2:7-8).  In Mt.24:12 het die Here gesê:  “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.”  Sonde skok ons nie meer nie.  Deur die films, advertensies en TV programme wat ons kyk, die koerante en tydskrifte wat ons lees, is moord, bedrog, homseksualiteit en ander vorme van seksuele sonde, ateïsme, verslawing, en ander sondes alledaags en normaal.  Dit pla ons nie eintlik nie.  Ons het geleer om dit te verdra.  Dit is soos ‘n kraak op jou kar se windskerm of die gedrup van ‘n kraan wat nie ordentlik toe is nie:  as jy dit lank genoeg ignoreer, kom jy dit nie meer agter nie.

 

En so het ons geleer om klein kompromieë aan te gaan. Omdat jy jou werk wil behou, doen jy dinge wat nie eintlik by ‘n Christen pas nie.  Jy wil nie uitgeskuif word nie, en daarom laat jy die oneerlike transaksie deurgaan.  Soos die res gee jy ‘n omkoopgeldjie of -geskenkie sodat jý die kontrak kry.  Jy wil nie jou baas teleurstel nie, of jy probeer om vir jou kollega te skerm, en daarom vertel jy maar die wit leuntjie.  Daar is dinge op jou rekenaarskerm wat, as dit jou kind was, jy hom daaroor sou vasgevat het.  Dit pla jou nie meer dat jy ure van jou baas se tyd steel deur op Facebook te wees nie.  Jy wil nie dom lyk nie, en daarom drink jy maar ‘n paar drankies te veel by die jaareindfunksie.  Ook jou taalgebruik en die grappe wat jy vertel klink nou soos die wêreld s’n, ten spyte daarvan dat Ef.4:29, 5:3-4 sê daar moenie vuil taal uit jou mond uit kom nie.

 

Ook by die skool en universiteit het jy dit wat jy van kleins af geglo het, prysgegee omdat jy ‘in’ wil wees. Soos die ander kinders het jy begin rook en drink.  As jy atletiek doen is dit nie meer rou talent wat jou help nie, omdat jy begin het om steroïedes te gebruik.  Jy werk nie meer so hard soos voorheen nie, maar skryf gou voor pouse iemand anders se huiswerk af.  Jy sien hoe baie ander studente vir die vakansie saam met hulle ouens of meisies weggaan en in een bed slaap.  Jy het die leuen ingesluk dat dit ‘okay’ is as jy nie al die pad gaan nie, want as jy op ‘n sekere punt ophou was dit nie seks nie.  In jou oë is dit veral nie verkeerd nie, omdat jou ouers nie daarmee ‘n probleem het nie.

 

As jy klein kompromieë maak sal dit nie lank wees voordat jy groter kompromieë maak nie. Maak dus seker dat jy in die eerste plek nie op hierdie pad beland nie.  Die Here gee vir jou ‘n kans om jou te bekeer.  Moet asseblief nie soos Isebel wees en die kans verbrou nie (v.21).  Draai weg van wat verkeerd is, en fokus daarop om die regte dinge te doen en om daarin te groei (v.19).  Hou vas aan die Bybel en doen wat daarin geskryf staan (v.25).  Herinner jouself ook daaraan dat die Here jou motiewe, gedagtes, en geheime dade sien (v.18, 23).

 

As jy nie van die verkeerde pad af wegdraai nie, sal die Here drastiese stappe teen jou neem.  Hy kan maak dat jy in ‘n hospitaalbed of op jou sterfbed beland (v.22).  Hy kan maak dat jy deur diep waters gaan (v.22).  Hy kan jou kinders van jou af wegneem (v.23).  Daar is niks wat Hy nié kan doen om jou tot jou sinne te bring nie.

 

Ek wil by jou pleit om die kans te gebruik wat die Here vandag vir jou gee. Draai om as jy soos ‘n skaap van Hom af weggedwaal het.  Dalk weet jy nie eers hoe om terug te kom by die kraal nie.  Roep in gebed en vra vir die Herder om jou te kom haal.  Sê vir Hom dat die sonde jou uitgeput het, en dat jy nie meer jou eie kop wil volg nie.  Vra Hom om jou te vergewe.  Hy sal; met sy hele hart.  Sy Seun het soos ‘n geskeurde stuk vleis aan ‘n growwe kruishout gehang om sondaars na die Vader toe terug te bring.  Erken net dat jy teen Hom gesondig het, en vertrou dat Hy die opgestane Verlosser is wat jou met ‘n sterk greep uit die put van jou sonde kan uithaal.

 

Hy sal jou nie in jou sonde los nie. Hy sal na jou toe hardloop, jou omhels, en jou soen (Lk.15).  Hy sal jou herstel, sodat jy weer in ‘n intieme en persoonlike verhouding met Hom kan lewe, sodat jou hart vol is van sy liefde, vrede, blydskap en hoop. Hy sal jou sonde vergewe en jou nie daaraan herinner nie (Heb.10:17).  Hy sal dit in die diepste see gooi en van jou af wegvat so ver soos wat die ooste en die weste van mekaar af verwyder is (Mig.7:19, Ps.103:12).  Hy sal jou beloon (v.26-28, Ef.1:3).  Die geskenke wat Hy vir jou sal gee is meer werd as die goud, edelstene en duurste maatskappye op aarde.  Miskien verstaan jy nie as Hy vir jou sê wat dit is nie (v.26-28), maar as jy dit sien en ontvang sal jou oë groot word, jou mond oophang en jou asem weggeslaan wees.

 

Laat dít jou aanspoor om jou sonde te los en te doen wat die Here wil hê. Laat ons gemeente (saam met elke ander kerk wat ernstig is om die Bybel te preek en te gehoorsaam) lewe om die Here tevrede te stel.  Ek waarborg jou dat jy op die oordeelsdag nie vir ‘n oomblik spyt sal wees jy het dit gedoen nie.

 

In die 1800’s het Philip P. Bliss ‘n gesang vir sy Sondagskoolklas geskryf. Die lied gaan oor Daniël.  Toe die hele wêreld teen hom was (soos wat hulle teen sy vriende was), het hy nie geskroom om alleen te staan nie.  In die koor-gedeelte van hierdie lied sê die skrywer:

Dare to be a Daniel,

Dare to stand alone!

Dare to have a purpose firm!

Dare to make it known.

 

Soos Daniël moet ons bereid wees om alleen te staan en nie kompromieë aan te gaan met sonde en die wêreld nie.

 

[1] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, p.421

[2] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Thyatira

[3] Thompson, Ibid

[4] William Hendriksen, More than Conquerors, p.88

[5] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Thyatira en Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, p.103

Wat is ware godsdiens?

Choosing religion

Vals godsdiens is soos ‘n lyk in ‘n kispak:  uiterlik is dit mooi, maar innerlik is daar geen lewe nie.  Dis ‘n aap wat ‘n goue ring dra.  In se Stefanus se preek sien ons wat ware godsdiens is (cf. Handelinge 6:8-7:60).

 

Die beskuldiging (6:8-15)

Stefanus was gevul met die Heilige Gees, en dus ook met genade, krag, geloof, en wysheid:  “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid… Stéfanus, ‘n man vol van geloof en van die Heilige Gees… En Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen… Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.” (v.3, 5, 8, 10).  Stefanus het gepreek in die Sinagoge van die Libertyne (‘n groep vrygelate Jode wie se voorouers in 63 v.C. deur Pompey as slawe geneem is), die Cirenéërs en Alexandryne van Noord-Afrika, en die Cilíciërs en Asiërs van klein-Asië (v.9-10).  Hulle poging om te debateer was tevergeefs:  “hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.”  Jesus het immers belowe:  “Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.” (Lukas 21:15).

 

Toe hulle dit agterkom het hulle begin vuilspeel en vals getuies navore gebring.  Lukas skryf:  “Toe het hulle manne opgestook om te sê:  Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God.  En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes in beweging gebring en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring.  En hulle het valse getuies laat optree om te sê:  Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie.  Want ons het hom hoor sê:  Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander.” (v.11-14).  By Jesus se verhoor het die vals getuies gesê dat Hy daarin geroem het dat hy die tempel sou afbreek (Matteus 26:60-61).  Nou het hulle dieselfde van Stefanus gesê.  Stefanus het glad nie teen Moses, God of die tempel gelaster het nie.  Inteendeel, hy was sóós Moses:  “En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.” (v.15, cf. Eksodus 34:29).

 

Godsdienstige mense hou van reëls en rituele, omdat dit hulle selfregverdige trots voed.  Hulle sal nooit vir die eer van God opstaan nie, maar sal tot die dood toe stry vir hulle tradisie:  ‘Ons is Baptiste!’  ‘n Ware Christen se lewe openbaar die godsdienstige persoon se skynheilige hart.  Daarom haat en laster hierdie mense gelowiges.  Hulle sal op Facebook en in die Beeld teen jou skryf.  Ware godsdiens daarenteen is bly oor God se genade, dra die vrug van bekering, het krag om sonde te oorkom, en is soos Jesus.

 

Die verdediging (7:1-53)

Stefanus het op die aanklag gereageer (v.1).

 

  • Abraham was buite die Beloofde Land toe God hom geroep het. Soos wat hy rondgetrek het, het hy altare gebou en God aanbid – sonder ‘n tempel (v.2-8). Isak en Jakob het dieselfde gedoen.
  • Josef se broers het hom verwerp en as ‘n slaaf na Egipte verkoop. God was met Josef – buite die Beloofde Land en sonder ‘n tempel (v.9-15). Die enigste erfenis wat sy familie in die Beloofde Land gehad het was die begraafplaas by Sigem (v.16).
  • Ten spyte van Farao se teenstand het God vir Moses opgewek (v.17-21). Toe hy probeer het om die volk te red het hulle hom verwerp. Hy het Midian toe gevlug. Daar het God hom voor ‘n brandende doringbos op berg Horeb ontmoet – buite die Beloofde Land en sonder ‘n tempel (v.23-34). God het hom die leier van Israel gemaak, maar die volk het hom verwerp – selfs nádat God wonders deur hom verrig het, die Tien Gebooie gegee het, en hy die Messias se koms voorspel het. Hulle het ‘n goue kalf gemaak en aanbid. Die offers wat hulle in die woestyn gebring het was nie vir God nie, maar vir die hemelliggame (v.35-43).
  • Aanbidding in die woestyn het by die tabernakel plaasgevind. Later het God se volk Hom by die tempel aanbid. Maar God was nooit hiertoe beperk nie (v.44-50). Toe Salomo die tempel gebou het, het hy gesê: “Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.” (1 Konings 8:27). Stefanus haal aan uit Jesaja 66:1-2: “Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?” (v.48-50).

 

Toe Stefanus dié teks aanhaal het die Jode ‘gekook’.  Hulle het geweet waaroor die konteks gaan:  vals aanbidding.  Stefanus moes gou sy preek afsluit:  “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.  Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie?  Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het; julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!” (v.51-53).  Stefánus het nie vir Moses en die tempel gelaster nie; húllehet.  Dwarsdeur sy preek verwys hy na ‘ons vaders’.  Maar toe hy aan die einde praat van húlle wat die profete en die Messias vermoor het, sê hy:  ‘júlle vaders’.  Hy was nie deel van hulle nie.  Christenskap was nie maar net ‘n sekte van Judaïsme nie – dit was ‘n ander godsdiens; die ware godsdiens van Abraham, Josef, Moses, David en Nuwe Testamentiese gelowiges.

 

Vandag is daar sogenaamde Christene wat wil terugkeer na Judaïsme.  Hulle wil weer op Saterdae kerk hou, Ou Testamentiese voedsel wette onderhou, Joodse feesdae vier, ‘heidense’ dae soos Kersfees en Paasfees vermy, en daarop aandring dat ons Jesus ‘Yeshua’ noem.  Hulle glo dat die Nuwe Testament oorspronklik in Hebreeus geskryf is, en dat die Griekse Nuwe Testament ‘n korrupte weergawe is.  Sommige gaan so ver om te sê dat mense wat nie hierdie reëls volg nie, ongered is.  In sy brief aan die Galasiërs het Paulus met hierdie mense afgereken.  Ons word nie gered deur Jesus plus die besnydenis, die viering van sekere feeste, voedselwette, ensovoorts nie.  Ons word gered uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen.

 

Die vonnis (7:54-60)

Die Joodse Raad was so kwaad dat hulle op hulle tande gekners het.  Hulle was woedend oor wat tóé gebeur het.  “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.  En hy het gesê:  Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.” (v.55-56).  Die teologie van hierdie verse is skatryk:

 

[1] Jesus sit gewoonlik aan God se regterhand om te wys dat Hy die Regter en Koning is, en dat sy verlossingswerk voltooi is.  By Sy verhoor het Jesus vir die Joodse Raad gesê:  “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” (Matteus 26:64).  In Handelinge 7 staan Jesus aan God se regterhand om vir Stefanus in die hemel te verwelkom.  Hy staan ook op om te wys:  ‘Ek weet jy is valslik beskuldig Stefanus – Ék (die Regter) sal jou Advokaat wees om jou te verdedig.’

 

[2] Stefanus noem Jesus ‘die Seun van die Mens’.  In Daniël 7:13-14 is dit ‘n Messiaanse titel.  Dit wys ook dat Jesus ná sy hemelvaart nog ‘n mens is, en dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood.

 

Die Raad was briesend.  Hulle het hulle ore toegestop, omdat hulle nie meer die Woord van God wou hoor nie (v.57, cf. Sagaria 7:11).  Hulle het presies soos hulle vaders gemaak en nóg een van God se dienaars vermoor (v.58, 52).  Hulle het gedoen wat Jesaja 66:5 sê (dit wat Stefanus nog wóú sê) en die ware gelowige verstoot.  Hulle het hom, soos sy Here, buite die stad vermoor (v.58, Hebreërs 13:12-13).  Die moordenaars het hulle jasse uitgetrek om harder te kan gooi (v.58).  In sy lewe en dood was Stefanus soos Jesus:

 

  • Jesus het sy gees in die Vader se hande oorgegee en gebid vir sy vyande (Lukas 23:34, 46).
  • Stefanus het gevra dat Jesus sy gees moet ontvang en gebid vir sy vyande (v.59-60).

 

God het Stefanus se gebed beantwoord.  Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur (v.58), maar hy kon nie die preek afskud nie.  ‘n Tydjie later het hy tot bekering gekom (hoofstuk 9).  Stefanus het gesterf.  Sy dood was so skadeloos soos ‘n man wat aan die slaap raak (v.60).  Sy gees was dadelik by die Here (v.59).

 

Baie vals godsdienste hou vas aan een of ander ‘Jesus’, maar hulle haat die ware Jesus van die Bybel:  volkome God en mens, opgestane Here, Verlosser, Messias, Regter, Middelaar, soenoffer vir sondaars.  Hulle haat Hom soveel dat hulle sy volgelinge sal doodmaak.  Hulle sal in die kerk sit en brom.  Hulle is daarvoor bekend dat hulle vir predikante ‘n moelike tyd gee.  Hulle sal selfs daarin roem.  Hulle stop hulle ore toe vir die Woord van God.  Hulle haat Bybelse prediking.  Hulle sal hulle bes probeer om die dominee uit die kerk uit te verdryf (soos wat een ‘ouderling’ onlangs met ‘n vriend van my gedoen het).  Hulle wil die kansel beheer en vir die predikant voorskryf hoe en wat hy mág en nié mag preek nie.  Hulle ken die Bybel goed, maar hulle lewens bly onveranderd.  Ware godsdiens lyk anders.  Dit lyk soos Jesus.

Van twyfel tot geloof

Doubt to faith

Tydens my studies het een liberale professor my in die waarheid van die Bybel laat twyfel. My geloof is versterk toe ek die Bybel meer begin lees en memoriseer het. Die twyfel het verdwyn.

 

Hoe het Tomas beweeg van twyfel tot geloof?

 

24 En Thomas wat genoem word Dídimus, een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie. 25 Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.

 

26 En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! 27 Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. 28 En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God! 29 Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (Johannes 20).

 

Twyfel (v.24-25)

Tomas was een van ‘n tweeling en is daarom ook Didimus genoem. Hy was maar ‘n pessimistiese karakter en het, soos Eyore (die donkie in Whinnie-the-Pooh), altyd die donker kant van die lewe gesien. Toe Jesus vir Lasarus wou opwek, het Tomas vir sy kollegas gesê: ‘Kom ons gaan ook, dat ons saam met Jesus kan sterf.’ (sien 11:16, 8). In 14:5 sê hy: “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” In 20:25 staan sy depressie uit soos ‘n seer duim. Maar Tomas was ook dapper en lojaal. Hy was bereid om saam met Jesus te sterf. Hy wou graag weet waarheen Jesus oppad was, sodat hy kon saamgaan.

 

Die eerste keer toe Jesus ná die opstanding aan die dissipels verskyn het, was Tomas afwesig (v.24, 19). Die teks sê nie vir ons waar hy was nie. Die ander dissipels het aanhoudend [Gk. imperfektum] vir hom gesê: ‘Jesus het aan ons verskyn!’ (v.25). Tomas was somber en skepties – hy het nie die tien ooggetuies geglo nie: “As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” (v.25). Hy wou (soos Johannes ná hom) kon getuig van Jesus wat “ons hande getas het” (1 Johannes 1:1). Hy wou nie die ander se getuienis glo nie. Dalk het hulle net ’n gees gesien. Of dalk was dit ’n vals Jesus. Of miskien iemand wat hom voorgedoen het as Jesus. Voordat jy te hard is op arme Tomas, moet jy onthou dat die ander ook getwyfel het.[1] Die Skrif sê:

 

“En [die vroue se] woorde het vir [die dissipels] na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie…En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.” (Lukas 24:11, 36-43).

 

Adoniram Judson was ‘n Amerikaanse sendeling in Burma. Toe sy vrou en sy kind dood is, het hy depressief geraak en vir 40 dae in die oerwoud gaan woon. Hy het die volgende woorde in sy dagboek geskryf: ‘God is to me the Great Unknown. I believe in Him, but I find Him not.’ Tomas en Judson is bewyse dat selfs toewyde gelowiges kan twyfel. Party gelowiges is meer geneig tot somberheid as ander. Wees barmhartig en geduldig met sulke mense (soos wat Jesus in v.27 met Tomas was). Judas 22 sê: “En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys.” Wanneer so iemand sterk dinge gesê het soos: ‘Ek sal nooit glo nie’ (v.25), moet jy aanhou bid en vertrou dat die Here hulle kan help. Jesus het Tomas se diep twyfel verander in ‘n sterk geloof (v.28). Richard Sibbes (‘n Puritein) het dit raak gevat: ‘Nothing is as certain as that which is certain after doubts.’

 

Vir jou wat twyfel: Soms word twyfel aangehelp, omdat jy nie gereeld saam met ander Christene byeenkom om God se Woord te hoor nie. Tomas het getwyfel, omdat hy nie die vorige Sondagaand saam met die ander was nie (v.24). Waar het Asaf sy oplossing gekry toe hý verward was? “Toe het ek nagedink om [my probleem] te verstaan, maar dit was moeite in my oë, totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan [het]” (Psalm 73:16-17). Die Hebreërskrywer sê: “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:24-25). Martyn Lloyd-Jones was reg:

 

‘People who neglect attendance at the house of God are not only being unscriptural – let me put it bluntly – they are fools. My experience in the ministry has taught me that those who are least regular in their attendance are the ones who are most troubled by problems and perplexities… Moreover, those who do not attend God’s house will be disappointed some day, because on some favoured occasion the Lord will descend in revival and they will not be there. It is a very fooish Christian who does not attend the sanctuary of God as often as he possibly can, and who does not grieve when he cannot.’ (Faith on Trial, p.52).

 

Geloof (v.26-29)

Agt dae later was die dissipels weer bymekaar (agt dae tel van die Sondag wat Jesus opgestaan het, tot die volgende Sondagaand). Hoekom het Jesus nie deur die week aan hulle verskyn nie? Wou Hy Sondag instel as ‘n spesiale dag van aanbidding (sien Psalm 118:22-24, Handelinge 20:7, 1 Korintiërs 16:1-2)?

 

Die dissipels was agter geslote deure. Dit lyk of hulle, soos die vorige Sondagaand, wéér bang was vir die Jode (v.26, 19). Skielik het Jesus tussen hulle gestaan. Hoe presies dit kon gebeur is onverklaarbaar. In sy opstandingsliggaam kon Hy verskyn en verdwyn (Lukas 24:31). Maar die teks sê nie direk vir ons dat Hy deur die muur geloop het nie. Dit mag wees dat die geslote deur voor Hom oopgegaan, en weer agter Hom toegegaan het. Die dissipels se oë en ore was gesluit, sodat hulle dit nie kon sien nie. Dit is wat in Handelinge 12:10 gebeur het. Die tronkdeure was gesluit. Die engel het die deure voor Petrus oopgemaak sonder dat die wagte iets gesien of gehoor het.

 

Soos by die vorige geleentheid was Jesus se eerste woorde shalom – ‘Vrede vir julle.’ (v.26, 19). Jesus het geweet dat hulle bang was en wou hulle gerus stel. Voor sy dood het Hy mos vir hulle gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” (14:27).

 

Maar daar was iets meer in Jesus se vredegroet. Deur sy kruisdood was daar nou ware vrede tussen God en mens: “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Romeine 5:1).

 

Jesus het geweet wat Tomas in v.25 vir die ander dissipels gesê het. Daarom het Hy vir hom gesê: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.” (v.27). Die teks sê nie vir ons dat Tomas sy hand en vinger in Jesus se wonde gesteek het nie. Jesus self sê dat Tomas sy wonde gesien het (v.29), maar nie dat hy daaraan gevat het nie. Dit was nie nodig nie. Die oomblik toe hy Jesus se wonde sien, het hy geglo dat Jesus die opstane Here is. En die feit dat Jesus geweet het wat hy in die geheim vir die ander dissipels gesê het, het hom oortuig dat Jesus God is. Daarom het hy in v.28 vir Jesus gesê: “My Here en my God!” Tomas het verseker gedink aan dit wat Jesus vóór sy dood gesê het:

 

“[dat] almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer.” (5:23).

 

“voordat Abraham was, is Ek.” (8:58, cf. Eksodus 3:14).

 

“Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” (14:9).

 

Hy het die geweet dat die Messias God self is: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:5).

 

Die Jehova’s Getuies interpreteer Tomas se woorde anders as ons. Hulle sê:

 

  • Tomas was besig om te laster – hy het die Here se Naam ydelik gebruik (soos wat hulle ‘O my G__!’ in films sê). Maar geen lojale Jood sou die Here se Naam ydelik gebruik het nie. Buitendien is daar ‘n voegwoord (en) tussen ‘Here’ en ‘God’. Niemand sê: ‘My Here EN my God!’ as hulle laster nie. En as hy gelaster het: hoekom het Jesus hom nie bestraf nie, maar hom geseën? (v.29).
  • Tomas het vir Jesus ‘Here’ genoem het, maar toe opgekyk na die hemel en gesê: ‘My God!’ Maar weereens wys die voegwoord ‘en’dat Tomas met een persoon gepraat het. As ek vir my vrou sê: ‘Jy is lieflik en mooi’ praat ek nie met twee persone nie. Buitendien sê v.28: “En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!” Tomas het erken dat Jesus die God van die Ou Testament is: “my God en Here” (Psalm 35:23). Jesus het hom nie tereggewys nie, maar die lof aanvaar.

 

Tomas praat van my Here en my God. Sy woorde is warm en persoonlik. Luther het gesê: ‘Vat die woord my weg en jy vat Christenskap weg.’ Ek stem saam dat ‘n Christen se geloof nie ‘n private aangeleentheid is nie. Dis nie iets wat jy vir jouself hou nie. Jy is deel van ‘n groter liggaam. Jy is een met ander gelowiges (v.26). Tog is jou geloof persoonlik. Ander kan nie námens jou glo nie. Jy moet kan sê: ‘My Here en my God!’ (v.28).

 

Tomas het geglo eers nádat hy vir Jesus gesien het. Daarom sê Jesus: “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (v.29). In die Bybel is sien en glo teenoorgesteldes:

 

“Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Korintiërs 5:7).

 

“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebreërs 11:1).

 

“vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.” (1 Petrus 1:8-9).

 

Pasop dat jy nie ’n verkeerde afleiding maak nie. Geloof is nie ‘n blinde sprong in die donker nie: ‘Ons weet nie of hierdie dinge so is nie, maar glo dit in elk geval en hoop vir die beste.’ Nee. Dis wat evolusie is. Daar is geen feite op die tafel nie, en tog glo mense dit. Ware geloof is gebasseer op feite. Ons het nog nooit vir Julius Caesar gesien nie, maar daar is genoeg bewyse sodat ons glo hy het werklik bestaan. Net so met Jesus se opstanding. Al het ons dit self nie gesien nie, was daar ‘n paar honderd ooggetuies. Op grond van hierdie en baie ander bewyse glo ons. Dít is wat v.29 beteken. As die feite verkeerd bewys kan word, dan is ons geloof tevergeefs:

 

12 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? 13 As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. 14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; 15 en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. 16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.” (1 Korintiërs 15:12-19).

 

As ons glo sonder om te sien, moet ons nie saam met die charismate en Fariseërs soek na visioene en tekens nie (Matteus 12:39). Jy hoef nie ‘n hemelreis mee te maak om te glo nie, want “salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (v.29). Sien dan vir Jesus in die Skrif, glo die feite, bely Hom as Here en God, en oorkom jou twyfel (v.28). “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Romeine 10:9-10). In die hemel sal jy, soos Tomas, die merke in sy hande en sy sy sien (Openbaring 1:7, 4:6). Maar daardie tyd is nie nou nie.

 

Volgens oorlewering het Tomas die evangelie in Indië gepreek, en is hy daar met ‘n spies deurboor (John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs, p.6). Tomas het tot die einde toe geglo. Hy het waarlik beweeg van twyfel tot geloof.

 

 

[1] Die feit dat Tomas (en die ander) getwyfel het, wys vir ons dat die opstanding nie ‘n hallusinasie was nie. Die dissipels het nie die storie opgemaak nie. Hulle het koue en harde feite gesoek om hulle te oortuig.

‘n Oplossing vir depressie

Black and white picture of depression

“Wees altyddeur bly.” (1 Tessalonisense 5:16).

 

‘n Persoon wat ek ken was ‘n paar jaar gelede baie depressief.  Sy was altyd besig om grappe te vertel, maar emosioneel was sy in ‘n diep gat.  Wat Salomo gesê het was waar van haar:  “Ook onder gelag kan die hart pyn ly, en die einde van so ‘n blydskap is bekommernis.” (Spreuke 14:13).  Wanneer Paulus in v.16 sê ons moet altyd bly wees, is dit nie omdat hy naïef is oor die lewe nie.  Hy gee nie vir ons ‘n optimistiese Don’t-worry-be-happy tipe teologie nie.  Hy sou eerder saamgestem het met C.S. Lewis in sy boek The Last Battle:  “…there is a kind of happiness and wonder that makes you serious.  It is too good to waste on jokes.” (The Chronicles of Narnia; Harper-Collins Publishers; NEW YORK; 1956; p.759).

 

Al die sinne in ons teks (v.16-18) begin met die bywoord vir beklemtoning:  “Altyddeur wees bly, sonder ophou bid, in alles wees dankbaar…”  Hierdie dinge is God se wil vir jou (v.18).  As jy nie altyd hierdie opdragte uitvoer nie doen jy nie God se wil nie en is dit sonde.  Maar hoe kan jy altyd bly wees – ook in lyding (2:14) of probleme in die kerk (v.14-15)?  Daar is ‘n manier.  Wees bly in die Here en nie in jou omstandighede nie.  “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal:  Verbly julle!” (Filippense 4:4).  Nóú kan jy hartseer wees en tog ook altyd bly wees (2 Korintiërs 6:10).  Om hierdie konstante blydskap te hê moet jy vol wees van die Heilige Gees, want dit is Hý wat hierdie blydskap gee (Galasiërs 5:22, Handelinge 13:52, Romeine 14:17).  En verder sal jy hierdie blydskap verkry as jy aanhoudend bid en die Here dank in alles (v.17-18).  In Filippense 4:4-7 wys Paulus hoe ‘n persoon wat dít doen onverklaarbare vrede het.  En kan dit anders wees dat iemand wat vrede het ook blydskap sal hê?  Jesus wys ook die verband tussen gebed en blydskap in Johannes 16:24:  “…Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”

 

“Maar as Paulus sê ons moet bly wees oor alles sluit dit sekerlik nie dat ons bly moet wees oor sonde nie?”  Natuurlik nie, maar selfs wanneer dit by sonde kom kan ons bly wees dat God ons sondes vergewe (Psalm 103:10, 1 Johannes 1:9).  Party van julle wonder of v.16 ‘n oplossing is vir depressie?  Die antwoord is ja en nee.  Is jy depressief as gevolg van verkeerde denke oor jou situasie, siekte en pyn, vervolging, of ‘n gelowige wat gesterf het?  Indien wel is v.16 ‘n perfekte oplossing vir jou depressie.  Dink anders en wees bly in die Here (v.16).  Dink daaraan dat jou gelowige familielid of vriend by die Here is, en dat julle mekaar weer sal sien wanneer Jesus kom (4:13-18).  Onthou dat jy geseënd is as jy vir Jesus se onthalwe sleggesê en vervolg word.  Die Here sal jou beloon.  Beskou jou lyding vir Jesus as ‘n voorreg, omdat die Here jou net so hoog ag soos Jeremia en Paulus wat vir sy Naam gely het (Matteus 5:10-12).  Deur jou lyding volg jy ook in Jesus se voetspore (1 Petrus 2:21).  Weet ook dat die Here jou van hierdie lyding sal verlos en jou vervolgers sal oordeel (2 Tessalonisense 1:6-7).  Verbly jou dan in die hoop van die hemel wanneer jy ly (Romeine 12:12).

 

Word jou depressie dalk veroorsaak deur ‘n skuldige gewete?  In hierdie geval is v.16 nie ‘n oplossing vir jou depressie nie.  Bekeer jou en bely jou sonde.  Dan sal jou depressie ook soos die oggendskadu wyk.  Dalk is daar ‘n mediese rede vir jou neerslagtigheid:  ‘n gewas op die brein, medikasie wat slegte newe-effekte het, of iets anders.  Gaan sien ‘n dokter; v.16 is nie die regte medisyne nie. 

 

Hier is ‘n paar voorbeelde van mense wat blydskap gehad het in hulle lyding:

  • Paulus.  In 2:19-20, 3:9 vertel hy van sy blydskap oor die Tessalonisense se geloof en groei.  In Handelinge 16 word Paulus en Silas geslaan en in die tronk gegooi.  Maar die pyn kon nie keer dat hulle in die middel van die nag lofliede gesin het nie (Handelinge 16:25).  Paulus is in die tronk en sy vyande verkondig Christus om vir Paulus dieper in die moeilikheid te bring.  Maar Paulus gee nie om nie.  Solank Christus verkondig word is hy bly (Filippense 1:18).  In dieselfde Filippense-brief praat Paulus van sy blydskap in 2:2, 17-19, 4:10.  In Kolossense 1:24 sê Paulus dat hy hom in sy lyding verbly.
  • Die apostels word geslaan en is oorweldig met blydskap omdat Jesus hulle waardig geag het om vir sy Naam te ly (Handelinge 5:41).
  • Die Hebreër-Christene se eiendom word beskadig en geëis.  Hulle is bly omdat hulle eiendom in die hemel het wat niemand van hulle kan wegneem nie (Hebreërs 10:34).
  • Die martelare het gesing toe hulle doodgemaak is vir die geloof.  Hulle het geweet dat hulle binne ‘n paar minute by Jesus sou wees.
  • Charles Simeon is stief behandel deur sy eie gemeente en ander belydende Christene.  Joseph Gurney het vir hom gevra hoe hy dit regkry om die lyding te verduur.  Sy antwoord was:  “My dear brother, we must not mind a little suffering for Christ’s sake.  When I am getting through a hedge, if my head and shoulders are safely through, I can bear the pricking of my legs.  Let us rejoice in the remembrance that our holy Head has surmounted all His suffering and triumphed over death.  Let us follow Him patiently; we shall soon be partakers of His victory.” (Piper, J.; The Roots of Endurance; Crossway Books; WHEATON; 2002; p. 77).
  • John Newton het gely en het selfs teen die einde van sy lewe blind geword.  Sy antwoord teen materialisme kan toegepas word op sy gesindheid teenoor sy lyding:  “Suppose a man was going to New York to take possession of a large estate, and his carriage should break down a mile before he got to the city, which obliged him to walk the rest of the way; what a fool we should think him, if we saw him wringing his hands, and blubbering out all the remaining mile, ‘My carriage is broken!  My carriage is broken!’” (Ibid, p.68).
  • Ingrid Held was ‘n lidmaat van ons gemeente.  Sy het kanker gehad en pyn verduur.  Maar wanneer ek vir haar gevra het hoe dit gaan het sy gesê:  “Ek voel partykeer ‘n bietjie ongemaklik, maar dit gaan goed dankie.”  Sy was bly te midde van haar lyding.

 

My lewe mede-gelowige wat deur ‘n moeilike tyd gaan:  wees altyddeur bly.  Kyk verder as jou beproewing.  “…roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” (Romeine 5:3-5).

‘n Lafenis vir jou siel

“Hy het riviere ‘n woestyn gemaak en waterfonteine ‘n dorsland, vrugbare land ‘n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon.  Hy het die woestyn ‘n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine; en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het ‘n stad gestig om in te woon.  En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.  En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.” (Psalm 107:33-38).

 

Ek het grootgeword in die Soutpansberge.  Soos jy kan aflei kom die naam van soutpanne in die berge.  Soutpanne vorm gewoonlik in warm en droë gebiede.  Wanneer dit reën gaan lê die water in holtes in die vallei.  Die water kan nie vinnig genoeg in die grond insyfer nie, want wanneer die son uitkom, verdamp die water gou.  Die chemikalieë in die water is al wat oorbly.  In die holtes waar daar water was is daar nou net soute.  Wat in die Soutpansberge gebeur, gebeur ook in Salt Lake City in die V.S.A.  In die Namib woestyn gebeur dit dat daar massiewe riviere is wat vir ‘n paar ure vloei en dan weer in die sand verdwyn.

Dit is hierdie tipe dinge wat in die Psalmis se gedagte is wanneer hy v.33-34 skryf:  “Hy het riviere ‘n woestyn gemaak en waterfonteine ‘n dorsland, vrugbare land ‘n brak aarde [soutpanne], oor die boosheid van die wat daarin woon.”  Onthou hoe God die Rooi See en die Jordaanrivier in droë grond verander het.  En in Elia se tyd het hy die Kritspruit laat opdroog (1 Konings 17:1, 7).  In Deuteronomium 23:29 lees ons van “swawel en sout deurdat sy hele oppervlakte uitgebrand is, wat nie besaai word en niks laat uitspruit nie, waarin hoegenaamd geen plante opslaan nie, soos die omkering van Sodom en Gomorra, Adma en Sebóim wat die Here in sy toorn en in sy grimmigheid omgekeer het”.  In Jesaja 50:2 sê die Here:  “…Kyk, deur my dreiging maak Ek die see droog; Ek maak die riviere tot ‘n woestyn, sodat hulle visse stink, omdat daar geen water is nie, en hulle sterwe van dors.”

Hoekom laat die Here alles in woestyn verander?  As gevolg van die mens se sonde (v.34).  Dit was omdat Adam gesondig het dat dorings en onkruid uit die aarde begin groei het.  Alles het dor geword en landbou was baie moeiliker as voorheen (Genesis 3:17-19).  Die goddeloosheid van Sodom en Gomorra se inwoners het gemaak dat die Here vuur en swawel uit die hemel gestuur het (Genesis 13:10, 19:24-28).  Vandag is die see waar hierdie stede eens was sout sodat niks daarin kan lewe nie.  Geen wonder dit word die Dooie See genoem nie.

Het dit al in jou lewe gebeur dat riviere van plesier in ‘n woestyn verander?  Jy verloor jou lewensmiddele:  jou inkomste, huis, kar, en selfs jou bed.  Jy word bankrot verklaar en jou besigheid word toegemaak.  Ekonomiese ressesies laat jou ondergaan.  Die natuur laat jou boet:  insekplae, vloede, droogte, siklone soos Sandy, tsunami’s en aardbewings.  Natuurlik is dit belangrik om jou hart te ondersoek en vir jouself te vra:  Is hierdie dinge God se oordeel vir my sonde? (sien v.34).  Wees tog seker dat jy nie ongebalanseerd hieroor dink nie, want nie alle rampe is God se oordeel vir sonde nie (sien <st1:bcv_smarttag>Job 1-2).  Moet ook nie dat jou dors vir lewensmiddele maak dat jy van die lewende water vergeet nie.  Drink van Jesus en les die dors van jou hart (Johannes 4:14).  Jesus het namens ons dors gehad aan die kruis sodat ons nie hoef dors te kry in die hel nie (Johannes 19:28, Lukas 16:24).

Het jy al ooit die Okavango in vloed gesien.  Die Kalahari woestyn verander in ‘n paradys.  God doen dit.  Die psalmis beskryf dit so:  “Hy het die woestyn ‘n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine” (Psalm 107:35).  Onthou jy hoe God in die woestyn water uit die rots laat uitborrel het (Eksodus 17:1-7)?  Hy het die Israeliete uit die woestyn na ‘n ryk land toe gelei.  Dit was nie nodig vir hulle om te ploeg en te plant nie.  Hulle het nie huise gebou of watervore gegrawe nie.  Fonteine, riviere, en spruite was volop. Alles was reeds daar (sien Deuteronomium 8:7-17).  Soos diere na ‘n lang trek deur die Kalahari in die Okavango versadig word, het God dié wat honger was versadig (v.36).  Voorheen het Hy hulle gestraf:  hulle het misoeste gehad, hulle vee het gevrek, hulle was honger, hulle het siek geword, en hulle kinders het gesterf (Deuteronomium 28:15-68).  Maar nou het God hulle geseën en aan hulle ‘n permanente woning gegee.  Die Psalmis beskryf dit so:  “en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het ‘n stad gestig om in te woon.  En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.  En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.” (v.36-38, cf. Deuteronomium 28:1-14).  In antieke denke is gesaaide lande en  wingerde ‘n bewys van permanente inwoning (Jeremia 29:5, Esegiël 28:25-26).  God was goed vir Israel.  Hulle het Hom gedank.  Hulle was soos die vroeë pelgrims in die V.S.A.  Gelowiges in Plymouth het in November 1621 ‘n fees gehou tot die Here om Hom te dank vir die oes.  Tot vandag toe is Thanksgiving ‘n nasionale feesdag in die V.S.A.

Vir ons sal herlewing en die hemel soos koel riviere wees om ons te verfris.  Wat eens ‘n woestyn was word nou ‘n paradys.  Jesaja sê:

“Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ‘n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die Here, die sieraad van onse God.  Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas.  Sê aan die wat vervaard is van hart:  Wees sterk, wees nie bevrees nie!  Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos.  Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word.  Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.  En die gloeiende grond sal ‘n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies.  En dáár sal ‘n grootpad wees en ‘n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel – selfs die dwase sal nie dwaal nie.  Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel;  en die losgekooptes van die Here sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.” (Jesaja 35:1-10).

En verder oor die nuwe hemel en die nuwe aarde:  “En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet” (Jesaja 65:21).  Die rivier van die lewe sal in die nuwe Jerusalem wees.  Vrugte bome sal langs die river groei en daar sal genoeg wees om ons te versadig.  Ons sal van koel waterstrome drink en nooit weer dors kry nie (Esegiël 47:1-12, Openbaring 7:16-17, 22:1-2).  Die Here het dit deur Amos voorspel:  “En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet.” (Amos 9:14).  Mag ons nou reeds ‘n voorsmakie daarvan hê wanneer die saad van die Woord word gesaai word en ‘n groot oes lewer (Matteus 13:23).  Bid dat die Heilige Gees ‘n herlewing sal stuur om ons in ‘n geestelike dor land te versadig met die lewende water.  Vir jou wat nou in ‘n dor land is sê die Here:  daar is lig aan die einde van die tonnel – hou goeie moed.