Waarop bou jy jou lewe?

House of cards

In die afgelope week was daar ‘n groot haelstorm in Durban.  Ek het in ‘n video gesien hoe die water die grond onder die huis se fondasie wegspoel.  Een van die huis se hoeke het niks gehad om dit te ondersteun nie, en het letterlik in die lug gehang.  As daar ‘n rotsbank onder die huis was, sou die water nie die grond onder die fondasie kon wegspoel nie.

 

Ek weet nie of die huis uiteindelik geval het nie.  Indien dit gebeur het was daar groot skade, maar kon dit herbou word.  Maar as jy jou lewe op ‘n wankelrige fondasie bou en dit val, kan jy dit nie herbou nie.  Maak daarom seker dat jy Jes. 28:14-29 ter harte neem en op die regte fondasie bou.

 

Juda se ooreenkoms (v.14-21)

Bart het die kontrak van sy lewe geteken.  Teen volgende jaar hierdie tyd sal hy omtrent R3 miljoen in sy bankrekening hê.  Hy kan nie glo dat dinge uiteindelik besig is om uit te werk nie.  Om sy planne aan die gang te kry, het hy ‘n spul geld by vriende en familie geleen.  Hy het belowe om hulle binne ‘n jaar dubbel terug te betaal.  Sy planne het egter deur die mat geval, en nou is hy in groot moeilikheid.

 

Soos Bart, het Juda ‘n kontrak geteken wat nie sou hou nie.  Assirië was oppad om hulle aan te val, en daarom het hulle Egipte se hulp gevra (30:2-3).  Hulle het nie op die Here vertrou nie, en daarom het Hy besluit om hulle te oordeel (v.12-13).  Daar was egter nog tyd om na sy woorde te luister en hulle te bekeer (v.14).  In Jes. 28 het die Here drie keer vir hulle ‘n tweede kans gegee (v.14, 16, 22).  Hy is die God van tweede kanse (Jona 3:1, 4, 10, 4:2, 11).  As jy dus ernstig droog gemaak en gesondig het, strek die Here sy hand uit om vir jou nog ‘n kans te gee.  Al wat Hy wil hê is dat jy moet erken jy het teen Hom gesondig (Jer. 3:13).

 

Ongelukkig was Juda nie bereid om dit te doen nie.  Die priesters en profete – die geestelike leiers! – het op Egipte vertrou.  Hulle het God se Woord wat deur Jesaja na hulle toe gekom het, afgelag (v.14, 7-10, Jer. 6:10).  Maar die ooreenkoms wat hulle met Egipte gemaak het, was eintlik ‘n verbond met die dood en die hel (v.15).  Dit sou immers die uiteinde van hulle ongeloof wees (v.15).  Dit is asof hulle ‘n verbond met die dood gesluit het, waarin hy (die dood) belowe het dat hy hulle nie sal doodmaak nie.  Maar het hulle regtig gedink dat die dood (Egipte) hulle teen die sweep van Assirië kon beskerm (v.15)?

 

Egipte het beskerming belowe, maar kon dit nie bied nie; daarom het Jerusalem en haar leiers op leuens vertrou en daarin geskuil (v.15).  Dit is soos iemand wat ‘n kombers gebruik om vir hom huisie te bou, in die hoop dat dit hom teen Durban se hael sal beskerm.  Juda se ooreenkoms met Egipte kon hulle nie teen die haelstorm van God se oordeel beskerm nie (v.15, 2).

 

Het jy ‘n skuilplek om jou teen God se oordele te beskerm?  Sal jou rykdom jou op die laaste dag teen God se vurige toorn beskerm?  Dit sal nie (Spr. 11:4).  Sal jou goeie werke jou help?  Ook nie, omdat jou beste dade soos ‘n ‘mechanic’ se smerige oorpak is (Jes. 64:6).  Sal jou pa, jou voorvaders, Maria, die ds., of iemand anders vir jou intree?  Dit sal nie help nie, omdat die geen mens sy naaste van die dood en die hel kan red nie (Ps. 49:8-10).  Verder kan geen mens in die troon kamer van die hemel inkom as God hom nie uitnooi nie (Jer. 30:21).  God is ‘n verterende vuur wat in helder lig woon, sodat enigiemand wat sy volle heerlikheid sien, onmiddellik dood sal neerval (6:2, Eks. 33:20, 1Tim. 6:16, Heb. 12:29).

 

Jesus in sy Persoon, lewe, kruisdood en opstanding is die enigste Een wat jou teen God se toorn kan beskerm en jou in sy teenwoordigheid kan inbring.  Hoekom?  Op Golgota het Hy God se toorn soos ‘n spons geabsorbeer.  As jy daarom deur geloof en bekering onder hierdie dak skuil, kan die haelstene van God se oordeel jou nie tref nie (Rom. 8:1).

 

Verder moet ons onthou dat Jesus God en mens is.  Omdat Hy beide is, kan Hy God se arm aan die een kant vasgryp en die mens s’n aan die ander kant, om ons só uit die put van ons sonde te red (Job 9:32-33, 1Tim. 2:5).  God het Hom ook as ‘n fondasie- en kosbare hoeksteen gegee, sodat Sion of Jerusalem in Hom kon glo (v.16, Matt. 21:42, 44, Hand. 4:11).  Op Golgota het Hy die aardbewing van God se toorn deurstaan.  Hy is dus ‘n beproefde steen op wie jy jou huis kan bou (v.16).  Hy sal jou nie in die steek laat soos wat die wankelrige fondasie van Egipte vir Juda in die steek gelaat het nie (v.15-16).

 

Ongelukkig het Jerusalem gedink dat hulle nie op Hom kan bou en vertrou nie.  Hoe weet jy dit?  Hulle was nie rustig nie, maar het soos afkop hoenders Egipte toe gehardloop (v.16).  Hulle was rusteloos en angstig (v.16).  Hulle het nie geglo dat die Here hulle kan help nie, en het nie geduldig op Hom gewag nie (v.16).

 

Hulle het die steen uiterlik beoordeel en gedink dat Hy nie die hoeksteen kan wees nie (53:2-3, Ps. 118:22).  Gevolglik het hulle Hom op die hoop bou rommel buite die stad gegooi.  Hulle het die Messias gekruisig; die hoeksteen het dood by hulle voete gelê.  Toe hulle omdraai om weg te loop, het hulle oor Hom gestruikel en hulleself te pletter geval (8:14, Rom. 9:32-33, 1Pet. 2:6-8).

 

Moenie so wees nie, maar glo eerder dat die hoeksteen die gewig van God se toorn kan dra, “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh. 3:16).  Glo ook dat Satan en sy versoekings nie hierdie fondasie onder jou kan uitskud nie.  Glo en vertrou dat geen vyand of beproewing die fondasie kan laat kraak nie.  As jy jou lewe op hierdie fondasie bou is jy veilig.  Jy hoef daarom nie onrustig te wees, en haastig rond te bel in die hoop dat iemand jou kan help nie (v.15).  Jesus kan jou help (v.16).  Wag op Hom en bring jou sorge in gebed na Hom toe (1Pet. 5:7).

 

Hoekom het die Here hierdie fondasie- of hoeksteen gelê?  Die waterpas, bou penne en boulyn van reg en geregtigheid het vir die Here gewys dat die mure van Juda se lewens skeef is, en dat Jerusalem nie betroubaar is nie (v.17).  Juda wou die mure van goeie werke sonder ‘n fondasie steen bou, en daarom sou dit nie hou nie (v.16-17).  Die hael en vloed van God se oordeel sou hulle skuilplek van leuens wegspoel (v.2, 15, 17).  Daarom sou die Here ‘n nuwe tempel bou, waarvan Jesus en die evangelie (soos dit deur die apostels en profete opgeteken is) die hoeksteen is, en elkeen wat in Hom glo die mure (1Kor. 3:9-11, 16, Ef. 2:20, 1Pet. 2:4-5).

 

Omdat Juda hierdie fondasie verwerp het, sou hulle ooreenkoms met die dood (Egipte) nie uitwerk nie (v.15-16, 18).  Die sweep van God se oordeel (Assirië) sou elke dag deur die land trek en hulle platslaan (v.15, 18).  Dié wat in die nag gaan slaap het, het gebid dat die son moet opkom, terwyl dié wat opgestaan het, gewens het die dag is verby (v.19, Deut. 28:67).

 

Toe Juda God se boodskap van oordeel deur die Assiriërs (mense van ‘n vreemde taal) hoor, was hulle verskrik (v.19, 11, 2Kron. 32:18).  Skielik het die hulp wat hulle by Egipte gesoek het, nie rus gebied nie.  Hulle was so rusteloos soos ek en my vriend in 1999 was.  Ons het Kaap toe gery.  Teen 02:30 was ons te moeg om verder te ry, en was dit te laat om by ‘n gastehuis in te boek.  Ek het probeer om op die Opel Corsa se agterste sitplek te slaap, en hy op die voorste twee sitplekke.  Jy kan raai dat ons nie eintlik geslaap het nie.

 

Augustinus het gesê:  ‘U het ons vir Uself gemaak, en ons harte is rusteloos, totdat hulle in U rus.’[1]  As jy in enigiets of iemand anders rus soek, sal jy rusteloos bly.  Die bed en kombers van drank, dwelms, geld, kos, verhoudings, ander mense, ontspanning, plesier, ens. kan nie vir jou rus gee nie.  Die bed is te kort, en daarom kan jy jou nie lekker daarop uitstrek nie; die kombers is te smal, en daarom kan dit jou nie warm hou nie (v.20).  Niemand buiten die Here kan vir jou die rus bied wat jy soek nie (Matt. 11:28-30).

 

Ongelukkig het Juda hierdie rus van die hand gewys (v.12).  Gevolglik het die plekke waar God eens vir Dawid teen sy vyande gehelp het, die plekke geword waar Hy teen sy eie volk opgestaan het (v.21, 2Sam. 5:20, 25. 1Kron. 14:11, 16).  Derek Kidner sê:  ‘God who swept away David’s enemies will now sweep away David’s kingdom.’[2]  Hierdie werk van die Here was inderdaad vreemd en ongehoord (v.21).

 

As jy soos Juda die hoeksteen ignoreer om jou rus in iets of iemand anders te vind, sal Hy ook teen jou oorlog voer soos Hy dit in v.21 teen Juda gedoen het (vgl. Op. 2:16).  Dit is o.a. wat Jesaja in v.22-29 met sy gelykenis bedoel het.

 

Jesaja se gelykenis (v.22-29)

My vrou het ewe skielik lief geraak vir tuinmaak.  Sy het varkore in die voorste tuin geplant, en rose in die agterste een.  Sy het ‘n boek wat vir haar sê hoeveel son en water elke plant moet kry.  Sy weet dat sy elke plant anders moet hanteer.  Dit is ook wat die Here met ons doen.  Hy weet wat elkeen van sy kinders nodig het, en daarom tugtig Hy ons verskillend (v.22-29).

 

In Juda se geval het God die land verwoes en die inwoners met sterk boeie gebind (v.22).  Dit het gebeur omdat hulle God se waarskuwings deur Jesaja afgelag het (v.22, 9-10, 14).  Hulle moes hulle eerder bekeer en na Jesaja se gelykenis geluister het (v.22-23).

 

Die gelykenis gaan oor ‘n boer en sy plaas.  Die boer weet wanneer hy genoeg geploeg het en moet begin saai (v.24).  Hy weet ook dat kruie soos swart komyn en komyn, en graansoorte soos koring, gars en spelt op verskillende tye, plekke en maniere geplant moet word (v.25).  Hy weet dit omdat God hom wys gemaak het (v.26, 29).  Hy weet dat swart komyn nie met ‘n slee gedors word nie, en dat hy nie met ‘n wawiel oor gewone komyn moet ry nie; hy moet dit eerder met ‘n stok uitslaan (v.27).

 

Hy kan graansoorte soos koring fyn maal, maar met komyn en swart komyn moet hy dit nie doen nie (v.27-28).  Maar selfs as hy die koring fyn maal, moet die wa met perde nie aanhoudend daaroor ry en dit te fyn maal nie (v.28).

 

Jesaja se gelykenis wys vir ons hoe God se tugtiging werk.

 

[1] God sal nie die tugtiging langer laat duur as wat dit nodig is nie (v.24, 28).  Wanneer die tyd reg is sal die tugtiging ophou, sal jy soos suiwer goud uitkom, en sal die Here jou weer optel (Job 23:14, 1Pet. 5:6).

 

[2] Moenie sê dat die Here jou fyn maal, dat sy tugtiging te swaar is, of dat dit te lank aanhou nie (Jer. 30:11, Rom. 9:27-29, 1Kor. 10:13, 2Kor. 1:8).  Hy weet hoe om met jou te werk (v.27-28).  Hy onthou dat jy van stof gemaak is; Hy sal jou nie vernietig nie (Ps. 103:14).

 

[3] Die Here weet dat sy kinders verskillend getugtig moet word (v.25, 27-28).  Hy weet dat een kind ‘n pakslae nodig het, terwyl Hy met ‘n ander een moet raas.  Hy weet dat een gelowige op ‘n siekbed moet lê, terwyl ‘n ander een skerp gekritiseer moet word.  Een gelowige word baie erg versoek, terwyl ‘n ander een nie genoeg geld het nie.  God is wys, en daarom is elke gelowige se tugtiging handgemaak (v.29).

 

[4] God is die boer wat jou geplant en geoes het, en dit is ook Hý wat jou fyn maal (Rut 1:20-21, Job 1:21, 2:10).  Moet dan nie moedeloos word en kla wanneer dit met jou sleg gaan nie.  Weet eerder dat die Here met jou besig is, en onthou wat ‘n ou man vir my gesê het toe ek deur ‘n moeilike tyd gegaan het:  ‘God is obviously up to something good.’

 

[5] Die Here geniet dit nie om jou te tugtig nie (Lam. 3:33).  Hy doen dit egter, omdat Hy goeie dinge in jou lewe wil voortbring.  Hy wil jou soos Jesus maak (Rom. 8:28-29).  Hy wil hê jy moet heilig word en vrugte dra (Joh. 15:2, 8, Heb. 12:10-11).  Hy wil jou karakter vorm (Rom. 5:3-4).  Hy wil jou van die verkeerde pad af wegdraai, sodat jy op die regte pad sal loop (Ps. 119:67, 71).

 

Sy tugtiging help dat jy nie gemaklik raak nie, maar volhard (Rom. 5:3-4, Jak. 1:2-3).  Hy tugtig jou sodat jy meer na die hemel sal verlang (Rom. 5:3-5, 2Kor. 4:17-18).  Hy gebruik dit as ‘n sweep, sodat jy vinniger na die hemel toe sal hardloop (v.15, 18).

 

Verder tug Hy jou sodat jy Jesus se lyding sal waardeer, en Hom meer sal liefhê (Heb. 12:2-4).  Wanneer Hy jou tugtig, skop Hy die onbetroubare krukke van geld, gesondheid, die wêreld se wysheid, mense se guns, jou kundigheid, geestelike gawes, kragte en vermoëns onder jou uit, sodat jy op Hom sal vertrou en jy ‘n vaste fondasie onder jou voete kan hê (v.15-18, 2Kor. 1:8-9).

 

God se dissipline maak dat jy nie te veel van jouself dink nie, maar dat jy op die Here se wysheid en genade staatmaak (v.29, 2Kor. 12:7-10).  Die Here gebruik dit om te wys dat Hy jou liefhet en dat jy regtig syne is (Heb. 12:6-8).

 

Maar om God se spesifieke doel met jou tugtiging uit te werk is nie die belangrikste nie.  Wanneer jy soos Job nie kan verstaan wat die Here in jou lewe doen nie, kan jy ten minste weet dat jy ‘n rotsvaste fondasie onder jou voete het.  En dan moet jy die ou Sondagskool liedjie uit Matt. 7:24-27 liedjie onthou:

Die wyse man bou sy huis op die rots (x 3)

En die reën het neergeval

En die reën val neer en die vloed styg op (x3)

En die huis op die rots staan vas.

 

[1] Vertaal uit The Confessions of Saint Augustine, Whitaker House, New Kensington: PA, 1996, Book One, p.11

[2] D. Guthrie & J.A. Motyer, red., New Bible Commentary: Third Edition, Inter-Varsity Press, Leceister, 1970, p.606

Advertisements

God se swaard en sy roede

God's sword

Wanneer dit by God se swaard en sy roede kom, bestaan daar ‘n paar gevare.  Belinda dra die gevolge van haar sonde, maar blameer die duiwel en sien nie die Here se hand in haar tugtiging nie.  Riaan dink nie baie oor God se heilige geregtigheid nie, en dink dat Hy net liefde is.  Gevolglik dink hy nie wanneer hy sondig nie, en vrees hy ook nie die Here se tugtiging nie.

 

Hilda is ‘n bietjie soos Eeyore:  wanneer die Here haar tugtig, sien sy geen liefde agter die roede nie, en dink sy dat Hy haar met sy swaard straf.  Penny is ‘n ateïs.  Sy glo nie in die Here óf sy swaard nie, en is in vir ‘n aangename verrassing.  Jes. 27 praat tog duidelik van die Here se swaard en sy tugroede.

 

Leviatan (v.1)

Oral in die wêreld hoor ‘n mens stories van drake.  In ou Engeland het mense vir hulle kinders vertel van ridders wat drake doodmaak.  In Jes. 27:1 praat Jesaja van die Here wat ‘n draak met sy swaard doodmaak.  Sy swaard is hard en onbreekbaar; dit is groot en kan baie skade aanrig; dit is sterk, omdat die Een wat dit gebruik almagtig is (v.1).  Dit is beter as king Arthur se swaard, Excalibur.  Met sy swaard sal die Here vir Leviatan straf (v.1).

 

Wie is Leviatan?  Hy is die vinnige en kronkelende slang, die draak wat in die see is (v.1).  Hy is vinniger as ‘n swart mamba, maar nie vinnig genoeg om vir die Here te vlug nie.  Hy het soos ‘n luislang gekronkel, maar was ook slinks of kronkelend in sy karakter (Gen. 3:1).

 

Leviatan was ‘n tipe draak of dinosourus wat in die see gewoon het (v.1, Job 40-41, Ps.104:26).[1]  Jesaja gebruik dit as ‘n simbool vir God se vyande.  In 51:9-10, Ps. 74:13-14 en Eseg. 29:3-5 is dit duidelik dat die draak of Leviatan na Egipte verwys.  In Op. 12:9 praat Johannes van Satan as die slang en die draak.

 

Volgens v.1 sal die Here hierdie vyande met die swaard tref.  God het vir Egipte, Assirië en Babilon geoordeel.  Hy het ook deur Jesus se lewe, kruisdood en opstanding die duiwel geoordeel (Gen. 3:15, Matt. 12:28-29, Luk. 10:18, Ef. 4:8, Kol. 2:15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8, Op. 12:9-11).

 

Maar al het Hy die draak of slang dodelik gewond, spartel hy om met sy laaste krag om te verwoes (1Pet. 5:8).  Hy is soos ‘n buffel wat die doodskoot gekry het, maar met mag en mening kom om jou uit te haal.  By die wederkoms sal Jesus hom finaal in die hel werp (v.1, Op. 20:10).

 

As jy in sonde lewe, sal jy saam met die duiwel daar wees, omdat jy aan die verkeerde kant van God se swaard was.  Die skild en borsharnas van jou goeie werke en self geregtigheid was nie hard of sterk genoeg om te keer dat God se swaard deurdring en jou hart penetreer nie (Heb. 4:12, Op. 19:15).

 

As jy jou bekeer en in Jesus glo, sal God jou nie met hierdie swaard deurboor nie.  Hy sal sy Seun se kruisdood beskou asof dit joune is.  Op Golgota het God die swaard van sy geregtigheid uit die skede getrek, en vir Jesus daarmee deurboor.  Die pyn het soos ‘n dolk deur die Vader se hart gesteek, maar Hy het dit uit liefde vir sondaars gedoen.

 

As jy aan die Here behoort, kan jy hierdie selfde swaard gebruik om teen Satan te veg (Ef. 6:17).  Met God se groot, sterk en harde swaard, sal jy die duiwel se swaard uit sy hande uitslaan, en sal hy vlug (Jak. 4:7).

 

Die wingerd (v.2-6)

Toe ons Kempton Park toe getrek het, het ons drie vrugte bome in ons erf gehad.  Die termiete het die appelkoosboom opgevreet.  Die pruimboom staan nog, maar dra skaars vrugte.  Die perskeboom het elke jaar groen vrugte wat uitdroog en swart word.

 

In Jesaja se tyd was Israel so.  Maar in die toekoms sal dit verander.  Wanneer God sy volk se vyande oordeel (v.1), sal Hy ook die slegte wingerd van Jes. 5 in ‘n lieflike wingerd van skuimende wyn verander, sodat die klaaglied in ‘n loflied verander (v.2).

 

Hy sal sy wingerd natlei en dag en nag bewaar; Hy sal dit nie aan die dorings, distels, bosvarke en droogte oorgee soos in 5:5-6 en Ps. 80:13-14 nie (v.3).  Wie is die wingerd?  Dit is Israel, maar uiteindelik word dit in Christus vervul.  Dié wat deur geloof met Hom verenig is, is deel van die Ware Wingerd (Joh. 15:1-8).

 

Die Here is nie meer kwaad vir hulle soos in Jes. 5 nie (v.4).  Die toorn wat op hulle moes kom, het Hy soos ‘n waterval van lawa oor Jesus uitgestort (Matt. 27:46, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13).  Om sy volk te beskerm sal die Here ook die dorings en distels – sy volk se vyande – wat tussen die wingerd groei, verbrand (v.4, vgl. 5:6, 10:17).

 

En tog het die vyand nog ‘n kans om die Here se beskerming aan te gryp soos ‘n man wat ‘n stewige tak vasgryp as hy in dryfsand wegsink (v.5).  As die vyand deur geloof en bekering vrede met die Here maak (v.5, Rom. 5:1), sal Hy nie teen hulle baklei nie (v.4).

 

In die toekoms sal Jakob of Israel wortel skiet, bloeisels dra, lote uitskiet en vrugte dra (v.6, 37:31).  Israel se vrugte sal nie net die land vul nie (Ps.80:12), maar die hele wêreld (v.6).  Die vrug verwys na die vrug van bekering, asook na die vrug van nuwe bekeerlinge (Matt. 3:8, Rom. 1:13).

 

Deur ons eenheid met Jesus Christus, sal ons hierdie vrugte dra.  In die toekoms sal daar baie bekerings onder die Jode en die heidene wees; die wêreld sal God se wingerd wees wat met vrugte oordek is.  Die druiwe sal nie suur of wild wees soos in Jes. 5 nie, maar soet en sappig.

 

Diep in elke gelowige se hart het hy ‘n begeerte om ‘n wingerd van skuimende wyn te wees wat goeie vrugte vir Jesus dra, sodat die Vader verheerlik kan word (v.2, Joh. 15:8, Fil. 1:11).  Dit bedroef hom as hy die suur korrels van jaloesie, wellus, ongehoorsaamheid, woede, verslawing, twis, angs en ander sondes in sy hart sien.

 

Omdat die takke egter aan die wingerd verbind is, is suur korrels die uitsondering en nie die norm nie.  As die Vader ‘n tros pluk, sal Hy meestal die soet korrels van bekering proe:  ‘n gelowige wat die Here en sy naaste liefhet, wat geduldig is met ander mense, wat goeie werke doen wanneer niemand kyk nie, wat homself dissiplineer om te bid, ens.

 

Maar as die Here ‘n droë tak vind wat nie vrugte dra nie, weet Hy dat iemand dit met gom daar geplak het.  Hy sal die tak afbreek en saam met die dorings en distels verbrand (Eseg. 15, Joh. 15:6, Matt. 3:10).

 

Iemand wat m.a.w. sê dat hy ‘n Christen is en kerk toe kom, maar nie die vrug van bekering dra nie, sal saam met die moordenaars en verkragters in die hel gestraf word.  Sy straf sal erger wees as hulle s’n (Luk. 12:47-48).  Om van die Here se straf te vlug, moet hy ná Hom toe vlug (v.5).  Net Hý kan ons teen sy eie straf beskerm (v.5).

 

Die ballingskap (v.7-9)

‘n Goeie tuinier werk nie met sy rose soos met die onkruid nie.  Hy snoei die rose, maar die onkruid trek hy wortel en al uit.  Toe die Here vir Israel getugtig het, het Hy hulle nie so hard getref soos Hy dit met hulle vyande gedoen het nie (v.7).  Hy het hulle nooit met die tien plae getref, in die Rooi See verdrink, of uitgewis nie.

 

Hy het hulle nou wel met die vurige toorn van sy geweldige wind na ander lande toe verdryf, soos op die dag wat die skroeiende oostewind waai (v.8, Jer. 18:17, Gen. 41:6, Jona 4:8).  Maar Hy het altyd teruggehou en hulle nie in volle mate gestraf nie (v.8, Jer. 4:27, 5:10, 18).

 

Dit is omdat Hy beplan het om hulle in die toekoms te red.  Deur die bloed van Jesus het God Jakob se skuld weggevat (v.9, Rom. 11:26-27, kontra 22:14).  Om te wys dat hulle met die Here versoen is, sal Israel in die toekoms van hulle afgode ontslae raak en vir Jesus Christus aanbid (v.9b, afgode in Rigters, 1 & 2 Konings, die groot en die klein profete, Matt. 15:8-9, Hand. 7:40-43, 1Joh. 5:20-21).  Dit sal die volle vrug of bewys wees dat God hulle sonde weggevat het (v.9a, 6).

 

Hoe moet ons hierdie drie verse toepas?  Soms raak ons moedeloos wanneer die Here ons tugtig.  Ons dink dat Hy teen ons is, dat Hy ons nie liefhet nie, en dat Hy van ons vergeet het.  Maar is dit die doel en motief as jy jóú kind moet tugtig?  Hoekom sal ‘n volmaakte Vader dit dan doen?

 

Wanneer die Here ons tugtig is Hy vir ons.  Hy wil nie hê ons moet op die pad van sonde loop en onsself beskadig nie, en daarom tugtig Hy ons uit liefde.  Dit voel miskien of die Here ver is, maar eintlik is Hy baie naby wanneer Hy jou oor sy skoot trek.  Hy doen dit om goeie vrugte in jou lewe voort te bring, en om karakter in jou te kweek (v.9b, Heb. 12:5-11).

 

Moenie moedeloos raak wanneer die Here jou tugtig nie.  Hy tugtig jou nie volgens wat jy verdien nie, maar werk saggies met jou soos ‘n pa wat nie al sy krag gebruik wanneer hy sy tweejarige pak gee nie (Ps. 103:10, 13, 130:3).  Die Here tref jou nie met sy swaard nie, maar met sy roede (v.7-8).

 

Met die swaard van sy oordeel het God sy Seun in volle mate soos ‘n ongelowige getref, sodat Hy óns nie so hoef te tref nie (v.7-8).  Wees lief vir Hom, en raak ontslae van die dinge wat jou van Hom af weghou (v.9b).

 

Die stad (v.10-11)

Ek bly nou 13 jaar in Kempton Park.  Van wat ek hoor, was die ou Kempton hospitaal baie goed.  Vandag staan die geboue leeg en groei daar onkruid in die parkeer area.  Die staatshospitale wat nog oop is lyk nie veel beter nie.  Die vervalle geboue wys dat dié wat in hoë plekke is geen onderskeid het nie, en dat hulle die geld wanbestee.

 

Jerusalem was so.  God het die stad met haar afgode vernietig (v.9-10, 24:10).  Dit was so leeg, eensaam en verlate soos ‘n woestyn; die vee het tussen die bouvalle gewei en die bome se takke kaalgevreet (v.10).  Vroue het die droë takke afgebreek om vuur te maak (v.11).

 

Hoekom het die Here Jerusalem so vernietig; hoekom het Hy Hom nie oor haar ontferm en guns aan haar bewys nie (v.11)?  Dit is omdat hulle God nie geken of erken het nie; hulle het nie tussen goed en kwaad onderskei nie (v.11, 1:3, 5:20, 6:9-10, Deut. 32:28, Hos. 4:6).  Hy moes hulle eers met die roede slaan (v.7-11), voordat hulle kon vrugte dra (v.2-6).

 

Wat het hierdie verse met ons te doen?  Geen vesting kan God se swaard keer nie (v.10-11).  Party mense bou vir hulle ‘n koninkryk van geld, en vind hulle sekuriteit daarin (soos Hugh Hefner).  Ander soek hulle beskerming by mense:  hulle voel veilig as iemand hulle aanvaar, en verlore as mense hulle verwerp.

 

Vir ander is hulle posisie by die werk, hulle kwalifikasie, die plek waar hulle studeer het, hulle familie se reputasie, hulle taal en nasionaliteit, hulle kennis, ens. die vesting waarop hulle vertrou.  Volgens v.10-11 het hierdie mense geen onderskeid nie.  Net as jy op die Here vertrou en Hom vrees, sal jy en jou kinders ‘n veilige vesting hê (v.13, Spr. 14:26).

 

Die oes (v.12-13)

Christene verskil oor wat in die toekoms met Israel gaan gebeur.  Sommige dink dat daar glad nie vir hulle hoop is nie, en dat hulle nie na Israel toe sal terugkeer nie.  Ander dink dat God die land aan hulle belowe het, en dat hulle in die toekoms weer daar sal bly.  Persoonlik lyk dit vir my of hulle na die land toe sal terugkeer.

 

Die Eufraat rivier en die spruit van Egipte was die ideale noordelike en suidelike grense van Israel (v.12, Gen. 15:18).  Oral in die land – van noord tot suid – sal die Here sy volk een vir een soos druiwe of olywe afoes en in die Koninkryk insamel (v.12, Matt. 3:12a).  God se tugtig (v.11) sal goeie vrugte voortbring (v.12).

 

Wanneer die groot trompet geblaas word, sal God se verlore skape onder die heidene (Jesaja gebruik Assirië en Egipte as voorbeelde) na die hemelse Jerusalem toe kom om die Here te aanbid (v.13, 2:2-3, 11:11, 19:23-25, 25:6).  Dit het begin toe die heidene deur Jesus se kruisdood deel van Israel geword het (Joh. 10:16, 11:51-52, Ef. 2:11-22).  In die toekoms sal dit vermenigvuldig wanneer die Jode en heidene in groot getalle tot bekering kom (v.12-13).

 

Wat wil Jesaja in v.12-13 vir ons leer?  Ek glo nie dat Israel in die toekoms ‘n spesiale plek onder die nasies sal hê nie.  En tog wil ek byvoeg dat die Here nie klaar is met hulle nie.  Die Here het hulle vir ‘n tyd lank verwerp, maar in die toekoms sal baie van hulle tot bekering kom (Rom. 11:25-26).  Hy het sy volk soos ‘n olyfboom afgekap, maar sal hulle in die toekoms in hulle eie stam terug ent (Rom. 11:23-24).

 

Ons moet onsself dan nie bo Israel verhef en op hulle neersien, omdat die Here van hulle af weggedraai het om ons te red nie (Rom. 11:17-22).  Ons moet eerder uit hulle voorbeeld leer en sien hoe die Here hulle getugtig het.  As ons uiterlik in die Here deel, maar nie ‘n nuwe hart het nie, sal die Here ons ook afbreek.

 

Bid eerder vir ‘n herlewing onder Israel en die heidene, en glo dat die Here jou gebede sal beantwoord.  Hy sal sy swaard en sy roede teen Israel bêre, en hulle vergewe.  In C.S. Lewis se boek, The Horse and his Boy, skryf hy van ‘n leeu wat ‘n seun en ‘n meisie op hulle perde gejaag het.  Hulle was verskriklik bang, maar gelukkig het hulle weggekom.

 

Later het hulle uitgevind dat die leeu eintlik die groot en sagmoedige Aslan was.  Hy het hulle gejaag, sodat die perde hulle betyds by die koning kon uitbring.[2]  Net so gebruik die Here ook sy roede om ons te bevoordeel.  Dit is net as jy Hom verwerp dat Hy sy swaard teen jou sal gebruik.

 

[1] Die Afrikaanse Bybel sê dat die dier in Job 40-41 ‘n krokodil is.  Die beskrywing klink egter nie na ‘n krokodil nie, maar na ‘n tipe dinosourus wat in die see gewoon het.

[2] C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Horse and his Boy, HarperCollinsPublishers, New York: NY, 1954, pp.271, 281

God se byl

Axe

Jy ken seker die storie van Thor se hamer?  In Noorse mitologie was Thor die god wat met donderweer geassosieer is.  Die naam Donderdag of Thursday is van hierdie naam afgelei (Thor’s Day).  Sy hamer se naam is Mjölnir, en is veronderstel om een van die magtigste wapens op aarde te wees.  Die ou Noorweërs het gesê dat die berge kon platslaan.  Ons weet natuurlik dat Thor nie regtig bestaan het nie, en dat dit ‘n mite is.  Die God van Israel en sy byl is egter nie mite; Jes.10:5-34 praat daarvan.

 

Die val van Assirië (v.5-19)

God was kwaad oor goddelose Israel se sonde, en het vir Assirië as sy staf en roede gebruik om haar te slaan (v.5-6, 9:16).  Hy het nie maar net die Assiriërs toegelaat om vir Israel aan te val nie, maar het hulle beveel soos wat Hy die sneeu en die wind beveel (v.6, vgl. Hab.1:6).  Hy het vir hulle gesê om sy volk dood te maak, om hulle te plunder, en om hulle soos modder in die strate te vertrap (v.6, 8:1-4).

 

Assirië se motief was egter nie om die Here se heilige en regverdige oordele uit te voer nie, maar om sy eie mag te toon en om absoluut te verwoes (v.7).  Sy motief was sondig (v.7), terwyl die Here s’n heilig was (v.5-6).

 

Dit is byna soos ‘n ma wat haar vierjarige dogter met ‘n boodskap na haar boeties toe stuur:  ‘Gaan sê vir jou boeties ék sê hulle moenie so rof met jou speel nie.’  Met die gesag van ‘n grootmens gaan sy na haar boeties toe.  Sy steek vir hulle tong uit en sê:  ‘Mamma sê julle moet dadelik ophou om so rof met my te speel, anders gaan sy julle pak gee!’  Die ma se intensie verskil heeltemal van haar dogter s’n.  So was dit ook met God en Assirië (v.5-7).

 

Assirië was arrogant en het nie erken dat sy mag van die Here af kom nie.  Hy het in homself geroem (v.9-11):  ‘Wanneer ek ‘n nasie oorwin, word hulle koning ‘n leier in my weermag.  Ek het ook die groot stede wat in die strook langs die Middellandse See lê, platgevee.  Van noord tot suid was dit Karkemis, Arpad, Kalno, Hamat, Damaskus en Samaria.  Dit is net logies dat Jerusalem die volgende groot stad in my visier is.  Toe ek my hand uitgestrek het om die nasies vir myself te vat, het nie een van hulle gode my gekeer nie.  Hoe gaan Jerusalem en haar gode my dan keer?’

 

Die onsigbare God van Israel en Juda sou hom gekeer het (2 Kon.19:17-19).  As die Here klaar sy volk getugtig het, sou Hy die arrogante koning van Assirië vir die trots in sy hart en oë gestraf het (v.12, 37:37-38).  In sy arrogantheid het hy gesê:

 

‘Deur my sterk hand en wyse oorlogstrategie het ek al hierdie stede verower en hulle skatkamers geplunder.  Ek skuif lande se grense soos ek wil.  Ek is soos ‘n bul wat rooi sien:  ek bring konings op hulle knieë voor my; ek bring hulle van hulle trone af (v.13).  Ek is soos iemand wat ‘n verlate nes vol eiers kry – ek vat dit vir myself.  Die rykdom van die volke en van die hele aarde is myne.  Soos ‘n bang voël het niemand dit gewaag om ‘n vlerk te flap of te twiet nie’ (v.14).

 

God het vir die arrogante koning van Assirië gelag.  ‘Waar het jy al gesien dat ‘n byl of saag beter is as die een wat dit gebruik?  Sonder die houtkapper is die gereedskap nutteloos.  Tel die staf of roede die man op of andersom?  Die staf is van dooie hout gemaak en kan niks doen nie’ (v.15, 5).

 

Die Here van die Leërskare het besluit om die koning van Assirië en sy dapper soldate met ‘n verwoestende siekte te straf (v.16).  Só het Hy hom en sy heerlikheid in een nag vernietig (v.16-17, 37:36).  Assirië was die doringtakke en die onkruid; God was die vuur wat hulle verteer het (v.16-17, Heb.12:29).

 

God het die Assiriërs gebruik om sy volk soos ‘n woud aan die brand te steek (9:17-18).  Nou het Hy húlle soos ‘n woud aan die brand gesteek (v.16-18).  Hy sou hulle liggaam en siel verwoes het soos wat siekte ‘n mens se liggaam uitteer (v.18, Mt.10:28).  As God klaar die Assiriërs vernietig het, sou hulle soos ‘n woud gewees het waarvan die bome afgekap is.  Die soldate in sy weermag sou m.a.w. so min gewees het, dat ‘n kind hulle kon tel (v.19).

 

Om v.5-19 reg toe te pas, moet ons verstaan dat dit oor God se soewereiniteit gaan, en dat Hy oor alles en almal regeer (Ps.103:19).  Hy is soewerein oor bose nasies en hulle konings (v.5-6).  Dit is Hy wat konings aanstel en hulle weer afsit (Dn.2:21).  Al dink ‘n regering of ‘n leier dat hulle in beheer is, is God die Een wat hulle aangestel het (v.5-15, Rm.13:1).  Die mag wat hulle het kom van Hóm af (Jh.19:11).

 

Ons hoef dus nie bang te wees wanneer sekere leiers in ons land arrogant is en praat asof húlle in beheer is nie.  Ons moenie die toekoms vrees nie, maar op die Here vertrou.  Hy is by magte om mense se bose dade te gebruik om sy goeie planne uit te werk (v.5-7, Gn.45:5, 8, 50:20, Ps.105:17, Hd.2:23, 4:27-28).

 

Dit geld ook op ‘n individuele vlak.  Die Here is soewerein as Sarel sy vrou sleg behandel, of as Alicia van haar man skinder.  Hy is soewerein as Gert rebels is en sy ouers se hart breek.  Hy is soewerein as Retha se vyand ‘n leuen oor haar vertel, of as Pieter se kollegas hom kritiseer.

 

Soos met Israel, gebruik Hy mense om ons te verneder en na Hom toe te draai.  Ondersoek daarom jou eie hart om te sien of dinge in jou lewe reg is.  Indien nie, moet jy dit regstel.  Bely jou sonde en bekeer jou daarvan.  Lê stil onder die Here se swaar hand, en wag totdat Hy jou op die regte tyd verhoog (1 Pt.5:6).  Probeer om nie bitter te raak nie, maar gee aanhoudend jou probleem in gebed vir die Here (1 Pt.5:7).

 

Die punt wat ek wil maak is nie dat die Here kop in een mus is met die mense wat teen jou sondig nie.  Sy intensies met jou beproewing is goed, terwyl die mense wat Hy gebruik slegte motiewe het (v.5-7).  Die troos lê egter daarin dat selfs slegte mense nie kan doen wat hulle wil nie.  Die Here sal hulle gebruik om sý planne uit te voer (v.5-15).  En aan die einde van alles sal Hy hulle oordeel vir wat hulle aan sy kinders gedoen het (v.16-19).  Laat ons dan leer om deur geloof en gebed ons probleme in sý bekwame hande te los.

 

Die bekering van Israel (v.20-34)

Het jy al ooit ‘n plant in jou tuin gehad wat jy nie kon uitroei nie?  Sodra jy dink jy het dit uitgeroei, kom dit weer op.  Dit is asof jy dit net nie kan uitroei nie.  Maar as jy hard probeer sal jy dit regkry.

 

Met God se kinders is dit anders.  Al staan al die magte van die hel teen God se kinders op, kan hulle ons nie uitroei nie.  So was dit in v.20-34 met God se volk.

 

Ons onthou uit hfst.7 hoe die konings van Israel en Sirië vir Jerusalem aangeval het.  Jerusalem het vir Assirië gevra om te help, maar op die ou end toe draai hy om en toe veg hy téén haar (1 Kon.16:7, 2 Kron.28:20).

 

Maar in die toekoms sou dit nie so gewees het nie.  Die oorblyfsel van Israel sou nie meer op die koning van Assirië vertrou het nie, maar op die Here (v.20, vgl. die betekenis van Sjear Ja-sjub in 7:3).  Met ‘n opregte hart en in waarheid sou hulle op die Heilige van Israel gesteun het (v.20).

 

Na Israel se ballingskap sou die oorblyfsel van die volk nie net na die land toe teruggekeer het nie, maar na die Here toe (v.21).  Hulle sou dus tot bekering gekom het en in die magtige God van Jakob geglo het (v.21, 9:5).

 

Volgens God se belofte aan Abraham was Israel soos die sand van die see, maar nou het hulle as ‘n oorblyfsel teruggekeer (v.22, Gn.22:17).  Volgens die Here se raadsplan het Hy die volk verwoes en uitgeroei (v.22).  Dit het Hy gedoen omdat Hy vol van geregtigheid was, en die volk vol van sonde (v.22).  Sy besluit om hulle uit te roei was heeltemal heilig en regverdig (v.22).  Sy oordele het nie net vir Israel gegeld nie; die ander nasies sou ook deurgeloop het (v.23).

 

God het die Assiriërs gebruik om vir Samaria te straf.  Hulle sou egter nie suksesvol gewees het teen Jerusalem nie; dit was onnodig dat sy die roede van Assirië gevrees het soos wat sy dit in Moses se tyd onder die Egiptenare gedoen het (v.24, 2 Kon.19:6, Eks.2:11, 23).

 

‘n Kort tydjie na Assirië se aanval op Jerusalem, het die Here hom vernietig (v.25).  So het die eens magtige wêreldryk tot ‘n val gekom, sodat daar vandag minder Assiriërs is as Afrikaners.  Soos wat hy ‘n roede teen Israel was (v.24), sou die Here ‘n sweep teen hom gewees het (v.26, 37:36-38).  God sou hom getref het soos wat Hy in Gideon se tyd die Midianiete getref het (v.26, 9:3, Rgt.7:25).  Die Here sou sy staf oor Assirië gelig het soos Hy dit by die Rooi See oor Egipte gelig het (v.26).

 

Daarna sou Assirië se slawejuk nie meer op Jerusalem se nek en skouers gewees het nie (v.27, 9:3, 2 Kon.18:14, Nah.1:13).  Wat beteken v.27 as dit sê dat die juk a.g.v. die vettigheid vernietig sal word?  Die Hebreeuse woord [shemen] verwys na die salfolie waarmee Israel se konings gesalf is.  Die juk sou dus gebreek word, omdat God ‘n verbond met Dawid en sy nageslag gemaak het (2 Sm.7:14).  Assirië kon dit daarom nie regkry om vir Israel te sink nie.

 

Hy het wel die kleiner dorpies in Juda vernietig, en was van daar af oppad om teen Jerusalem te veg (v.28-32).  Die dorpies wat gelys word is ‘n paar kilometer van Jerusalem af.  Hulle was bang en het na Jerusalem toe gevlug.  Die Assiriërs was oppad om teen Juda se hoofstad (Jerusalem) te veg.  Hulle het egter 2 km van Jerusalem af by ‘n dorp genaamd Nob gehalt (v.32).  Assirië het sy vuis vir Jerusalem gewys, maar God het hom gekeer om teen haar te veg (v.32).

 

Assirië was ‘n byl in die Here se hand (v.15).  Die Here het egter die situasie omgekeer en met almagtige houe die reuse en hoogmoedige boom van Assirië afgekap (v.33, 2:11-13, 17).  Met ‘n geweldige slag sou die boom aarde toe gekom het (Esg.31, 17:24, Dn.4).  Met sy byl het God die boom en die hele bos se takke afgekap (v.34, 18, kontr. v.15).  Babilon was die nuwe byl wat Hy gebruik het om hierdie majestieuse en magtige seder van Lebanon – Assirië – af te kap (v.34, Esg.31).

 

Hoe moet ons hierdie gedeelte toepas?  Vandag is daar bittermin Jode wat in die sterke God van v.21 en 9:5 glo (Rm.9:27-28, 11:5), maar in die toekoms sal baie van hulle tot bekering kom (Rm.11:25-26).  Onthou dat die Jode se bekering groot seën vir die wêreld sal beteken, en dat baie heidene as gevolg daarvan gered sal word (Rm.11:12, 15).

 

Moet dan nie nalaat om vir hulle bekering te bid nie.  ‘n Skotse prediker in die 1600’s het gesê:  ‘They forget a main point of the Church’s glory, who pray not daily for the conversion of the Jews.’[1]  Ek bedoel nie dat ons nie ernstig vir die redding van al die nasies moet bid nie, maar eerder dat ons nie van Israel moet vergeet nie.

 

Nog ‘n les is dat ons nie die vyand hoef te vrees nie (v.24).  Hy mag miskien sterker as ons wees, maar Hy is nie sterker as die Here nie.  God sal hom met ‘n almagtige slag tref en finaal tot ‘n einde bring.

 

Wat Hy in v.24-34 met die Assiriërs gedoen het, sal Hy met elke arrogante regering doen.  Soos groot bome sal Hy hulle afkap.  Die boom van sy Koninkryk sal die grootste wees (Dn.2, Mt.13:31-32).  En wat Hy met die Koninkryke van hierdie wêreld gedoen het, sal Hy ook met Satan en die koninkryk van duisternis doen.

 

Dit help nie dat enige vyand sy of haar vuis teen Jesus en sy kerk lig nie (v.32, Mt.16:18).  Jy kan dan moed skep en weet dat die Here nooit een van sy kinders sal laat val nie.  Niks kan ons van sy liefde skei nie, en niemand kan ons uit sy hand uit ruk nie (Jh.10:28-29, Rm.8:38-39).  Hy het die goeie werk van verlossing in jou begin, en sal dit voltooi tot op die dag wanneer Jesus terugkeer (Fil.1:6).

 

As God aan jou kant is, is sy byl nie gevaarlik nie.  Ek bedoel nie dat dit nooit met jou sal sleg gaan nie, maar dat Hy selfs die beproewing waardeur jy op die oomblik gaan tot jou voordeel sal gebruik.  Sy byl sal vir jou ‘n operasiemes wees wat die kanker van sonde uitsny, en nie ‘n voorwerp van verwoesting nie.

 

[1] Robert Leighton aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, p.75

Hoe moet ons dissipline toepas?

church-discipline

Ek is al vir 12½ jaar in ons gemeente, en nog nooit het die ouderlinge vir my gevra om oor ‘n spesifieke onderwerp te preek nie. Maar by hierdie week se vergadering het hulle vir my gevra om oor kerkdissipline te preek, omdat daar nog mense in die gemeente is wat dit nie verstaan nie.  Die duidelikste lering hieroor vind ons in Mt.18:15-20.

 

Die stappe van dissipline (v.15-17)

In my gesprekke met mense hoor ek dat daar dissiplinêre prosesse by hulle skole, besighede en maatskappye is. Iemand word nie summier afgedank nie – daar is ‘n proses wat gevolg moet word.

 

En so is dit ook in die kerk. As God se kinders hulleself nie kan dissiplineer om van hulle sonde ontslae te raak nie (v.7-9), is daar ‘n proses in plek om die Here se verlore skape terug te bring (v.15-17, 10-14).

 

Moenie dink dat dit eers dissipline is wanneer die persoon se naam voor die gemeente genoem word nie. Om een tot een met iemand oor sy sonde te praat (bv. in berading) is ook dissipline.  Hoe lyk hierdie proses in die praktyk?

 

Stap 1: Gaan alleen

Jesus praat hier van ‘n broer wat sonde doen (v.15), van iemand wat deel is van die gemeente (v.17).  Kerkdissipline is dan nie vir ongelowiges bedoel nie, maar vir gelowiges (1 Kor.5:12-13, Heb.12:6-8).  Dit is die Here se voorreg aan hulle om hulle te help as hulle van die pad afgedwaal het.

 

Jesus gee nie ‘n spesifieke lys van sondes waarvoor ons dissipline moet toepas nie. In hierdie verse gaan dit oor enige sonde waarin ‘n Christen volhard.  Maar moet my nie verkeerd verstaan nie.  Hier gaan dit nie oor ‘n gelowige wat sy sonde haat en daarteen stry, maar vir jare daarmee sukkel nie.  In v.16 staan daar letterlik dat die broer glad nie wil luister nie [Gk. ], en volgens v.17 weier hy om na die getuies en na die gemeente te luister [Gk. parakouō].

 

Dit gaan dus oor iemand wat opsetlik en moedswillig met sy sonde aanhou (selfs iemand wat dat hy wil ophou, maar nie regtig ‘n ernstige poging aanwend om dit te doen nie).

 

Wie se plig is dit om die dissipline toe te pas? Myne.  Joune.  Elke gelowige s’n.  Dit is nie net die ouderlinge se taak om dit te doen nie.  As jou broer teen jou gesondig het, moet jy na hom toe gaan (v.15).  Ook die twee of drie getuies van v.16 kan enige gelowiges in die gemeente wees.

 

Maar moet jy by die proses betrokke raak as die persoon nie direk teen jóú gesondig het nie? Dalk het die persoon nie direk teen jou gesondig deur van jou te skinder nie.  Maar as 15-jarige Fanie verslaaf is aan dwelms, sondig hy indirek teen sy ouers omdat hy húlle naam deur die modder sleep.  En so is dit ook in die gemeente.  Daarom geld kerkdissipline nie net wanneer iemand direk teen jóú gesondig nie.

 

Wat moet jy doen as jy uitvind dat iemand besig is met sonde? Moenie net vir die persoon bid nie, maar gaan na hom toe (v.15).  Sonde verblind en verlei ons (Jer.17:9, Heb.3:13), sodat ons dit nie raaksien nie.  Soms is dit nodig dat iemand dit vir jou moet uitwys.  Ons is geneig om vir ander te vertel wat die persoon gedoen het, eerder as om direk na haar toe gaan.  Maar dit hoort nie so nie:  gaan na die persoon toe en praat met haar – alleen (v.15, Lv.19:16-17).

 

Voordat jy dit doen moet jy seker maak dat jy die gesindheid van Jesus het: wees nederig en sagmoedig, en let op jouself dat jy nie óók versoek word nie (Gal.6:1-2).  As die persoon vir jou geluister het, het jy hom vir die Here gewen (v.15, Jk.5:19-20).  Dit is tog die doel van dissipline:  om gelowiges wat in die put van sonde beland het uit te help, omdat hulle dit nie op hulle eie regkry nie.  As die persoon hom dan bekeer het, is dit nie nodig vir verdere dissipline nie – al het hy ook seksuele sonde gepleeg of dronk geword.

 

Soms is daar egter gevalle waarin ons dadelik vir die gemeente sê, omdat almal reeds van die persoon se sonde weet.  Die dissipline moet so publiek wees soos die sonde.  Daar is uitsonderlike gevalle waarin ons ‘n persoon onmiddellik van die gemeente moet afsny.  As ‘n lidmaat bv. ‘n skoolmeisie ontvoer, verkrag en doodmaak, neem ons aan dat hy ‘n ongelowige is, en sny ons hom dadelik van die gemeente af (vgl. 1 Kor.5).

 

Stap 2: Vat getuies saam

Iemand wat ná stap 1 nie wil luister om hom te bekeer nie, het verdere hulp nodig. Daarom moet jy een of twee persone saamvat as jy met die persoon gaan praat (v.16).  “in die veelheid van raadgewers is redding.” (Sp.11:14).  “Twee is beter as een” (Pd.4:9).

 

Hierdie mense hoef nie getuies van die persoon se sonde te wees nie, maar moet o.a. insit sodat dit nie uiteindelik jou woord teen hare is indien dit dalk voor die gemeente moet kom nie (Dt.19:15). Anders sal mense rede hê om agterdogtig te wees en te dink dat jy ‘n persoonlike vendetta teen die persoon het.

 

Stap 3: Sê vir die gemeente

Die gemeente is die gelowiges wat hulleself deur lidmaatskap tot ‘n spesifieke liggaam toe verbind het. In ons konteks vra ons hulle na die erediens om vir ‘n paar minute agter te bly.  Ons sê vir hulle wat aan die gang is (v.17a).  Volgens die Bybelse vereiste noem ons die persoon se naam, asook die sonde wat hy gedoen het (1 Kor.5:1, 1 Tm.1:20, 2 Tm.2:17-18, 3 Jh.9-10, Op.2:20).  Die gemeente hoef nie al die lelike detail te weet nie, maar ons sê vir hulle genoeg dat hulle kan weet dit is ernstig.  Op hierdie punt sny ons nie die persoon af nie, maar ons vra dat die gemeente sal probeer om hom terug te wen.

 

Stap 4: Sny die persoon af

As die persoon ná stap 1-3 nogsteeds nie na die gemeente wil luister nie, moet ons hom afsny. Volgens Jesus moet ons hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar beskou (v.17b).  Die Jode het die heidene en tollenaars as onrein beskou (Jh.18:28), en sou ook nie saam met hulle geëet het nie (Mt.9:11, Hd.11:2-3).  Wat beteken dit prakties vir ons?

 

[1] Ons moet die persoon vermy (Rm.16:17, 2 Tm.3:5). Ons moenie geselsies met hom aanknoop of saam met hom kuier nie.

 

[2] Ons moet ons van hom onttrek en geen gemeenskap met hom hou nie (v.17b, Ef.5:11, 2 Ts.3:6, 14, Tit.3:10). Ons moet hom nie by die eredienste, Bybelstudies, bidure en ander gemeentebyeenkomste verwelkom nie.

 

[3] Ons moet hom uit ons midde verwyder, sodat hy nie meer ‘n lidmaat van die gemeente is nie (1 Kor.5:2, 7, 13).

 

[4] Ons moet hom aan die Satan oorlewer (1 Kor.5:5, 1 Tm.1:20). Dit beteken o.a. dat hy nou in die wêreld lewe en nie meer deel het aan die voorregte, vreugdes en beskerming van die Here Jesus se gemeente nie (1 Jh.5:19).

 

As ek 15 jaar jonger was, sou ek gesê het dat hy nou vir homself moet ‘fend’. Al verantwoordelikheid wat ons teenoor die persoon het, is om vir hom te bid en om die evangelie met hom te deel.

 

[5] Ons moenie met hom assosieer of saam met hom eet nie (v.17b, 1 Kor.5:11). Dit beteken dat ons nie saam met hom die nagmaal moet eet nie.  Ons moet ook nie op ‘n vriendskaplike basis saam met hom koffie drink of braai nie.

 

Die doel van hierdie streng optrede is om…

 

  • Te keer dat die persoon se sonde die res van die gemeente beïnvloed (1 Kor.5:6-7).
  • Ons bang te maak dat ons nie dieselfde paadjie loop nie (1 Tm.5:20),
  • Die Here se Naam te beskerm, sodat die wêreld nie met Hom spot nie (Rm.2:24).
  • Die persoon skaam te maak en tot sy sinne te bring, sodat hy hom bekeer (1 Kor.5:5, 2 Ts.3:14).

 

Die gesag van dissipline (v.18-20)

Mense hou nie van dissipline nie; hulle soek dit nie. In ons eie gemeente het mense al gevra dat ons daarmee moet wegdoen.  Ander het al vir hulle ‘n nuwe gemeente gaan soek, omdat hulle nie daarvan hou nie.

 

Ek het eenkeer ‘n e-pos gekry waarin die persone gesê het hulle soek ‘n God van liefde, en nie ‘n God van dissipline nie (sien Heb.12:6, Op.3:19). Mense het al vir my gesê:  ‘Wie gee vir julle die reg om dit te doen?’

 

Volgens v.18-20 gee Jesus vir ons die reg om dit te doen; ons doen dit met sý goedkeuring.  Dit wat ons op die aarde bind, is ook in die hemel gebind (v.18 vgl. 16:19).  Anders gestel:  wanneer ons op die aarde iemand van die gemeente afsny, is die God van die hemel besig om hom te tugtig.  Dus is kerkdissipline nie bloot ‘n formaliteit nie – die Here dissiplineer regtig die persoon.

 

Die vers impliseer ook dat die persoon wat van die gemeente afgesny is onder die Here se dissipline bly totdat sy haar bekeer.  Dit help dan nie dat sy haarself wip en na ‘n ander gemeente toe gaan nie.

 

Verder sê Jesus dat dit wat op die aarde ontbind is, ook in die hemel ontbind is (v.18). M.a.w., as die persoon hom regtig bekeer het en hy deur die gemeente vergewe en herstel word, sal die Here hom nie verder tugtig nie, maar die swaar hand van sy dissipline lig.  Die Griekse konstruksie wys eintlik dat die gemeente optree, omdat die Here reeds in die hemel die proses aan die gang gesit het.[1]

 

Jesus bevestig dat gelowiges wat op die aarde is, die hemel se gesag het om sy dissipline toe te pas (v.19).  Waar die twee getuies van v.16 oor die dissipline saak saamstem, sal die Here hulle hulpgeroep hoor en hulle beantwoord (v.19).  Die gebed in v.19 het niks te doen met ‘n biduur nie; dit gaan oor kerkdissipline.

 

As ons dan enigiets in hierdie spesifieke verband vra, sal ons Vader wat in die hemel is ons gebede beantwoord (v.19). Gebed is dan ‘n belangrike aspek van kerkdissipline.  As ons die Here aanroep, sal Hy vir ons die nodige krag gee om hierdie moeilike proses deur te sien (v.19).

 

Hy sal self ook by ons teenwoordig wees wanneer ons in sy Naam vergader het om dissipline toe te pas (v.20, 1 Kor.5:4). Waar die twee of drie getuies van v.16 met die persoon moet praat of dit voor die gemeente moet bring, sal Jesus self teenwoordig wees om hulle te help.  Dit is asof Hy sê:  ‘Ek weet dit is moeilik, maar julle doen die regte ding.  Ek is met julle en keur goed waarmee julle besig is.’  Daarom moet ons nie nalaat om dissipline toe te pas, omdat ons mense vrees nie – die Here is met ons.

 

Ek weet dat ek nie noodwendig al jou vrae oor kerkdissipline beantwoord het nie. Laat my toe om enkele vrae te beantwoord.  Indien jy nóg vrae het, is daar verskeie boeke en preke wat jou kan help.[2]

 

[1] Wat sal gebeur as ons nié dissipline toepas nie? Dan sal God die gemeente tugtig (Op.2:14-16, 20).

 

[2] Hoeveel tyd moet ons tussen die verskillende stappe toelaat? Dit hang van die situasie af.  As Karen traag is om die eredienste by te woon, gaan stap 1 en 2 jou waarskynlik ‘n paar maande vat.  Dit sal veral die geval wees as sy nou en dan ‘n poging aanwend om kerk toe te kom.  Maar as Gideon Dinsdag sy vrou gelos het om by sy sekretaresse in te trek, gaan jy binne twee of drie weke stap 1, 2 en 3 doen.

 

Daar moet genoeg tyd wees vir die persoon om haar te bekeer. “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” (1 Ts.5:14).  Iemand het gesê:  ‘Die liefde is geduldig, maar dis nie blind nie.’

 

[3] Wat moet jy doen as die persoon nie ‘n afspraak met jou wil hê nie, en hy jou boodskappe en oproepe vermy? Moenie te gou opgee nie.  Vra vir een van die ander getuies om die persoon te kontak.  Daag by sy huis op.  Skryf vir hom ‘n brief, maar maak seker dat jy jou woorde mooi kies.  Vra vir die ander getuies om dit deur te lees en voorstelle te maak voordat jy dit stuur.

 

As geeneen van jou pogings werk nie, het die persoon indirek gesê dat hy nie vir jou of die ander getuies wíl luister nie.  In daardie geval moet jy vir die leiers sê, sodat hulle dit voor die gemeente kan bring (v.17, 3 Jh.10).

 

[4] Wat as die persoon haar bekeer het – hoe moet ons dán te werk gaan? Hier moet ons ‘n balans handhaaf.  Aan die een kant moet ons nie naïef wees en dink dat sy haar bekeer het, net omdat so gesê het nie.  Om jammer te wees oor die gevolge van sonde, is nie dieselfde as om jammer te wees oor die sonde nie.  Ons wil daarom die vrug van bekering sien, en gewoonlik gebeur dit nie binne twee weke nie (2 Kor.7:10-11).

 

Indien daar egter ware bekering is, moet ons die persoon vergewe, haar as ‘n lidmaat van die gemeente herstel, en versigtig wees dat ons haar nie moedeloos maak omdat ons haar op ‘n afstand hou nie (v.21-35, 2 Kor.2:5-11).

 

‘n Ouer predikant het eenkeer vir my gesê: ‘Kerkdissipline werk nie – dit maak mense kwaad en dit dryf hulle weg.’  Hy was reg om te sê dat dit hulle wegdryf.  Toe God in Hd.5 vir Ananias en Saffira doodgemaak het, het die ongelowiges dit nie gewaag om by die gemeente aan te sluit nie (Hd.5:13).  Die predikant was egter verkeerd om te sê dat dit nie werk nie, want in dieselfde teks lees ons dat die Here meer en meer mense by die gemeente gevoeg het (Hd.5:14).

 

In die begin van John MacArthur se bediening het sy vriende vir hom gesê om nié kerkdissipline toe te pas nie, omdat dit die gemeente sal doodmaak. Hy het nie vir hulle geluister nie.  Die gemeente het gegroei van 400 tot meer as 10 000.  Dit laat my dink aan die vers wat sê:  “die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.” (1 Sm.2:30).

 

[1] Wayne Grudem, Systematic Theology, p.891

[2] [i] Handbook of Church Discipline deur Jay Adams.  [ii] Church Discipline deur Jonathan Leeman.

[iii] Hoofstukke oor kerkdissipline in Wayne Grudem se Systematic Theology, John MacArthur se Master’s Plan for the Church, Mark Dever se 9 Marks of a Healthy Church en The Deliberate Church deur dieselfde outeur.  [iv] Willem Nel van Krugersdorp Baptistekerk se audio preek hieroor.  Jy kan dit aflaai by:  http://baptistekerk.org/Hulpbronne/Preke/Volgens-Titel-2/post/gemeentelike-dissipline—n-bybelse-oorsig [v] Ek het twee ander preke oor die onderwerp gepreek.  Jy kan dit lees by:  https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2016/05/01/wat-moet-ons-doen-met-lidmate-wat-van-die-gemeente-afgesny-is/ EN https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2015/04/23/die-enigste-oplossing-vir-sonde-in-die-kerk/

Die tien plae: Sprinkane

Locust plague

In 2008 het ek die evangelie met ‘n sekuriteitswag gedeel.  Hy het gesê dat hy in Shembe glo, en dat Jesus ‘n profeet was maar nie God nie.  Ek het vir hom gevra of Shembe die see kan bedaar; of Shembe sondeloos is.  Die Skrif leer duidelik dat Jesus die ware God is.  Judas 5 sê:  “Jesus… saved a people out of the land of Egypt, afterward destroyed those who did not believe.” (ESV).  Ja, dit was Jesus wat in Eksodus 10:1-20 die sprinkaanplaag gestuur het.  Ook hier het Hy gewys dat hy die ware God is.

 

Die sewende plaag:  Sprinkane (v.1-20)

 

[1] God waarsku vir Farao (v.1-6)

Ek het eenkeer vir ‘n apteker gevra hoekom hy kerkgeskiedenis begins studeer het.  Sy antwoord was:  ‘As ons die geskiedenis ken kan ons die foute vermy wat hulle gemaak het, en leer uit die goeie dinge wat hulle gedoen het.’  Ek sal byvoeg dat ons die Here kan prys vir die groot dinge wat Hy gedoen het deur sy volk te verlos en haar vyande te oordeel.  Ons kan begeer dat Hy dieselfde in ons tyd sal doen.  As ek oor die hervorming of herlewings lees, begeer ek dat die Here weer so sal ingryp.  Dis die les in die eerste ses verse.

 

Moses het dié keer in die paleis ingegaan om met Farao te praat.  Nog ‘n keer sou die Here sy krag aan die verharde Farao wys.  Deur dié en ander wonders sou Israel se nageslag ook weet dat Hy die ware God is (v.2).  “o God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel:  ‘n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd.” (Psalm 44:2).  “Hy tog het ‘n getuienis opgerig in Jakob en ‘n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het—om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar” (Psalm 78:5-7).  Na die sprinkaan plaag in Joël sê die Here:  “Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag” (Joël 1:3).

 

Die koning het steeds geweier om hom voor God te verneder, en die bevel te gehoorsaam om Israel te laat trek.  God sou genadig gewees het as Farao hom onderwerp het (1 Konings 21:29, 1 Petrus 5:6).  Omdat Farao hardkoppig was, het die Here gesê dat Hy die volgende dag ‘n sprinkaanplaag sou stuur.  Nog ‘n keer het die Here gewys dat Hy soewerein is en die gode nie.  Selfs met ‘n dag se kennis kon die gode Hom nie keer nie.  Die sprinkane sou die land bedek, die bome kaal vrees, en in die huise inklim – die ergste plaag wat Egipte ooit gesien het (v.6, 14).  Joël se beskrywing van so ‘n plaag help ons om Eksodus 10 beter te verstaan:

 

  • “Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind.” (Joël 1:4).
  • “Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword.” (Joël 1:7).
  • “‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ‘n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.” (Joël 2:2).
  • “Voor hom uit verteer ‘n vuur, en agter hom brand ‘n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit ‘n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie.” (Joël 2:3).
  • “Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos ‘n dief.” (Joël 2:9).

 

Die sprinkaanplaag, soos die haelplaag, was ‘n aanval op die Egitiese gode van die atmosferiese hemel.  Shu, Tefnut, en Nut was veronderstel om die wind te beheer (v.13, 19).  God het ook die gode van die plante, landbou, en oeste – Geb en Seth – vernietig (v.5, 12, 15).  Volgens die Egiptiese godsdiens het Serapia die sprinkane beskerm.  Die God van Israel het gewys dat ook dié god magteloos was (v.19).

 

Ons moet die volgende geslag van die ware God leer, en hulle teen vals gode waarsku.  Sommige Christen pa’s leer nie vir hulle kinders die Bybel nie.  Ek wil pa’s aanmoedig om huisgodsdiens te hou.  Die Bybel sê:

 

  • “en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deuteronomium 6:7).
  • “Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen” (Genesis 18:19).
  • “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Efesiërs 6:4).
  • “ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Josua 24:15).
  • “Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (Spreuke 6:20).
  • “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” (Spreuke 22:6).
  • “jy [ken] van kleins af die heilige Skrifte… wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” (2 Timoteus 3:15).

 

Moet dit nie aan die skool of Sondagskool oorlaat om hulle te leer, sodat jy jou plig versuim nie.  Weet jy wat die skool en Sondagskool vir jou kinders leer?  Indien jy ‘n oupa of ouma is wat weet dat jou kleinkind nie ‘n Bybelse opvoeding kry nie, kan jy gerus die kans gebruik om hom of haar reg te leer.  Timoteus het die evangelie by sy ma en ouma geleer (2 Timoteus 1:5).  Die psalmskrywer sê:  “En ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag.” (Psalm 71:18).

 

Lees vir jou kinders Bybelgeskiedenis, kinder-biografieë en kerkgeskiedenis.  Moet dit nie net lees nie, maar leer vir hulle die lesse daaruit.  Wys ook uit die geskiedenis hoe die kerk dwalinge bestry het.  Jy kan byvoorbeeld vertel hoe die kerk in die hervorming van die vals Katolieke sisteem af weggebreek het.  Vertel ook vir jou kinders hoe die Here in jou lewe gewerk het (Josua 4:6).  Sorg dat jy self ook geskiedenis lees, sodat jy daaruit kan leer.

 

Hoekom is hierdie dinge belangrik?  Hoor die Woord van die Here:  “En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie.  En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE:  hulle het die Baäls gedien en die HERE, die God van hulle vaders, verlaat wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en hulle het agter ander gode aan geloop, van die gode van die volke wat rondom hulle was, en hulle daarvoor neergebuig en die HERE geterg.” (Rigters 2:10-12).  Asaf sê dat ons God se werke vir ons kinders moet vertel, sodat hulle “nie word soos hulle vaders nie, ‘n koppige en wederstrewige geslag, ‘n geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.” (Psalm 78:8, vgl. v.4-7).

 

[2] Farao onderhandel met God (v.7-11)

Daar is ‘n stam in die Kalahari wat bobbejane vang en vir hulle sout voer.  Die bobbejane weet waar die water is.  Met ‘n bek vol sout hardloop hulle baie vinnig na die ondergrondse waterbronne toe.  Só kry die mense water.

 

Maar hoe vang hulle die bobbejaan?  Terwyl ‘n jong bobbejaan toekyk grou die man ‘n klein gat in ‘n miershoop.  Hy sit dan pampoenpitte in die gat.  Die bobbejaan is nuuskierig en steek sy arm in die gat.  As hy die pampoenpitte in sy hand het kom die man nader.  Die bobbejaan skreeu, maar is nie bereid om die pitte te los nie.  So vang die man hom.

 

Farao wou nie voor die Here buig of sy reg as ‘n ‘god’ oor Israel opgee nie.  Hy sou eerder sien hoe die land ondergaan.  Die koning was so hardkoppig dat sy knegte moes vir hom sê dat die land verwoes is, en dat hy die Israeliete moes vrylaat.  Ongelukkig het hulle die idee in sy kop geplant dat hy net die mans moes laat gaan (v.7).  Farao was nie bereid om die kinders vry te laat nie.  Hy het geweet dat hy nog in beheer sou wees as die kinders in Egipte gebly het.  Hy sou die kommuniste se stelling beaam:  ‘Gee my ‘n kind vir die eerste sewe jaar, en hy sal vir die res van sy lewe ‘n kommunis wees.’

 

Farao het bose intensies gehad, en tog sê hy vir Moses en Aäron:  “julle het ‘n verkeerde ding voor oë.” (v.10).  Farao herinterpreteer God se gebod en sê vir Moses:  “Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang.” (v.11).  Hy besluit sommer vir hulle wat God gesê het.  So maak ons post-moderne samelewing:  hulle verdraai die Bybel om dit te laat beteken wat húlle wil.  Verse wat sê dat homoseksualiteit sonde is of dat vroue nie mag preek nie, word verdraai om die teenoorgestelde te beteken.  Moenie soos Farao wees en die Bybel verdraai om jóú voorkeure te pas nie.

 

Farao het vir Moses en Aäron weggejaag (v.11).

 

Buig voor die ware God se Woord en luister na sy waarskuwings.  Moenie net die verse lees wat jou gemaklik laat voel, en die moeilikes oorslaan nie.  Net so moet jy nie afskakel wanneer die prediker tekste uitlê waarvan jy nie hou nie.  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig vir lering (2 Timoteus 3:16).  As gemeente en individue moet ons nederig wees en alles gehoorsaam wat die Here sê.

 

Hoekom moet ons die Skrif gehoorsaam en ag slaan op God se waaskuwings?  As ons nie gehoorsaam is nie, sal God se oordele erger word (Levitikus 27:18, 21, 24, 28).  In Psalm 32:9 sê die Here:  “Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.”  As jy nie nóú voor die ware God buig nie, sal jy later buig.  Op die oordeelsdag sal elke knie voor Jesus buig (Filippense 2:10).

 

[3] God bring en verwyder die plaag (v.12-20)

In Maart 2013 het ‘n sprinkaanplaag Madagaskar getref – die ergste een in 60 jaar.  Een swerm was 15 km lank en het 45 minute geneem om die nasionale pad, roete 7, te kruis.  Daar was omtrent 100 sulke swerms met ‘n totaal van 500 biljoen sprinkane.  Die sprinkane het elke dag 100 000 ton verorber.  Hulle het meer as 50% van die eiland se gewasse vernietig.  Maar die plaag in Egipte was erger.  Die grond kon nie eers gesien word nie.

 

God het die sprinkane met die ooste wind gebring.  Dit moes erg gewees het, want volgens Genesis 41:6 en Jona 4:8 het dié wind plante doodgeskroei en mense laat flou voel.  Die swerm sprinkane was so dig dat die landoppervlak nie gesien kon word nie.  Hulle sou ook die son uitgedoof het.  “Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in.” (Joël 2:10).  Die sprinkane het selfs die bas van die bome afgevreet (v.5, vgl. Joël 1:7).  Het jy al gesien hoe bome vrek as olifante die bas gering het?  Toe die sprinkane deurgetrek het, het dieselfde gebeur.  Al die bome in Egipte het gevrek.  Groen plante gee suurstof.  Omdat die sprinkane al die groen plante afgevreet het, sou die land ‘n suurstof tekort hê.

 

Farao het vir Moses laat roep en weer vals berou gehad.  Hy was nie jammer oor sy sonde nie, maar wou net van die plaag ontslae raak.  Hy was bereid om sy sonde te erken en te bely.  Maar hy was nie regtig jammer nie.  Hy het gesê:  “Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde” (v.17).  Hy was tevrede dat sy sonde net een keer vergewe word.

 

God het ‘n westewind gestuur om die plaag te verwyder.  Hy het al die sprinkane in die Rooisee laat verdrink – ‘n voorskou van wat met die Egiptenare sou gebeur (hfst.14).  Nie een sprinkaan het in die land oorgebly nie.  God het Farao se hard verhard sodat hy Israel nie laat trek het nie.

 

Reageer reg wanneer die Here ‘plae’ in jou lewe stuur.  As God jou tref moet jy nie soos Farao hardkoppig wees en aanhou met jou sonde nie.  Na die plae in Openbaring 9 (onder andere ‘n sprinkaanplaag!) lees ons:  “En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.  En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.” (Openbaring 9:20-21).

 

Wees opreg in jou belydenis en bekering.  Moenie net ‘berou’ hê omdat jy wil hê die Here moet die plaag wegvat nie (v.16-17).  Hoeveel keer moet God jou tref voordat jy sal luister?  As jy sondig en sê dat jou lyding nie Gód se oordeel is nie, skep jy ‘n god van jou eie verbeelding.  Neem Lukas 13:1-5 ter harte:

 

“En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.  En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het?  Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.  Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?  Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.”

 

Bekeer jou van jou sonde en glo die evangelie soos Romeine dit verduidelik.  As jy jou nie bekeer nie, sal dinge erger word – baie erger.

 

Twee weke gelede het een van my vriende ‘n professionele debat gehou teen ‘n Moslem.  Die onderwerp van die dabat was:  Het Jesus gesê dat Hy God is?  Jesus het nie net gesê dat Hy God is nie, maar dat Hy die ware en enigste God is.  Wat Hy in Eksodus 10 gedoen het bewys dit.