Hoe gesond is Jesus se liggaam?

Da Vinci human body

Ons samelewing is behelp met die mens se liggaam. Mense sal enigiets doen om mooi te lyk: ‘n sekere dieët volg, draf, gym, duur klere koop, hulle naels laat doen, R800 betaal vir ‘n haarsny, sonbed.

 

Hoeveel te meer moet ons nie aandag gee aan Jesus se liggaam nie? Laat ons alles in ons vermoeë doen, sodat die wêreld sy skone beeld kan sien. Ons wil tog nie ‘n siek liggaam wees dat Hy Hom vir ons moet skaam nie? Paulus wys in 1 Korintiërs 12:12-31 hoe ons ‘n gesonde liggaam kan wees.

 

Eenheid en inlywing (v.12-13)

Die menslike liggaam het baie lede: arms, hande, voete, bene, tone, vingers, ‘n skelet, ingewande, ‘n vel, ‘n hart, longe, senuwees, bloed, oë, ‘n neus, ore, ‘n mond, ‘n tong, ‘n nek en baie meer. Tog werk al die lede saam as een liggaam (v.12).

 

So is dit met Christus en sy liggaam (v.12): ons is almal verskillend, maar tog is ons een. Jesus het ons almal in dieselfde Gees en liggaam in gedoop; Hy het vir ons almal dieselfde Gees gegee om ons geestelike dors te les (v.13, Matteus 3:11, Handelinge 1:5, Johannes 7:37-39). Al verskil ons op ‘n sosiale of etniese vlak – innerlik is ons een: “of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne” (v.13). “waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kolossense 3:11).

 

Bewaar die eenheid wat die Gees daarstel (Efesiërs 4:3). Deur die evangelie deel ons in een Vader, Here, Gees, geloof, doop, liggaam, en hoop (Efesiërs 4:4-6). Bekeer jou, glo die evangelie van Jesus se kruisdood vir sondaars en opstanding uit die dood, beeld die innerlike doping met die Gees uit in die uiterlike doop met water, word lidmaat van ‘n goeie Bybelse kerk (Handelinge 10:47, 11:16, 2:41).

 

Moenie soos die charismate en tweede genadewerk predikers sê dat net party gelowiges met die Gees gedoop is nie. As dit waar is dan het net party gelowiges deel aan die liggaam, het net party gelowiges ‘n geestelike gawe, mag net party gelowiges met water gedoop word (v.13).

 

Hoekom moet ons die eenheid bewaar? Het jy opgelet dat Christus sinoniem is vir die kerk (v.12)? Paulus se punt is dat die kerk Jesus se liggaam (hande, oë, hart, ens.) is op aarde. Die wêreld kyk na ons om vir Jesus te sien. Daarom moet ons seker maak dat ons Hom akkuraat weerspieël. ‘n Kerk wat verdeeld is sê indirek dat Jesus siek en gebreklik is (Johannes 17:21, 23, 13:34-35).

 

Betrokkenheid en samewerking (v.14-26)

Het jy al jou duim verstuit of middeloor ontsteking gehad? Jy besef nie hoe nodig jy jou binne-oor of duim het, totdat jy die gebruik daarvan verloor nie. Net so is elkeen se bydrae en gawe nodig as ons effektief en gesond wil wees.

 

Die liggaam bestaan uit baie lede (v.14). Dus moes die Korintiërs nie een gawe (tale) bo die res verhef het nie. Elkeen se gawe en betrokkenheid is nodig. Die voet kan nie sê: ‘Ek is nie die bruikbare hand nie, en daarom is ek nie deel van die liggaam nie.’ (v.15). Die oor kan nie sê: ‘Ek is nie so belangrik soos die mooi en ingewikkelde oog nie, en daarom is ek nie deel van die liggaam nie.’ (v.16).

 

Dit is eenvoudig onwaar. Die voet en oor het hulle eie belangrike funksies. Hoe sal jy loop as jou voet ‘n hand was? Jy sal jou naels skeur, jou duime breek, en jou kneukels sal bloei. Wat as jou oor ‘n oog was? Jy kan tog nie mooi musiek, die wind, ‘n voëltjie se gesing, of jou geliefdes se woorde sien nie (v.17)? As die hele liggaam ‘n oor was, het jy nie ‘n neus gehad nie. Kan jy braaivleis, gebraaide uie, malva poeding, rose, lentebloeisels, ‘n nat aarde ná die reën, gesnyde gras, nuwe leer sitplekke, die see en parfuum met jou ore ruik (v.17)?

 

God is wyser as dit. Hy het die liggaam noukeurig saamgestel. Hy besluit die hoe, waar, en wat met betrekking tot elkeen se funksie (v.18). Niemand is onnodig of uit plek uit nie. As almal dieselfde was sou daar nie ‘n liggaam gewees het nie (v.19). Wat beteken ‘n groot nr.24 voet buitendien op sy eie (v.19)? Die liggaam het baie verskillende lede, maar is een (v.20). ‘n Hand wat eenkant op ‘n operasietafel lê is nie jy nie; tog is elke lid saam die liggaam (v.20).

 

Die oog en die kop kan nie van bo af op die hande en voete neerkyk en sê: ‘Ek het jou nie nodig nie.’ (v.21). Dit is nie net arrogant nie; dis ‘n leuen. Die oog kan ‘n mooi blom sien, maar kan dit nie pluk nie. Die kop kan dink aan ‘n beursie vol geld wat in die kamer lê, maar kan nie loop om dit te kry nie.

 

Ons benodig die pankreas, gewrigte, lippe, en ander lede wat swak en onnodig lyk (v.22). ‘n Professionele sanger is niks sonder die klank operateur, beligting span, organiseerder, administratiewe persoon nie. Die prominente gawes beteken niks sonder die gawes van dié wat agter die skerms werk nie (die man wat preek beteken niks sonder die getroue ou tannies wat bid nie).

 

Die ledemate wat oneerbaar lyk pas ons mooier op (v.23). Die liggaam vou dubbel en keer met die hande as iemand die onaantreklike hart, longe, of maag met ‘n mes wil steek (v.23). Ons doen moeite met ons ledemate wat nie so mooi vertoon nie (v.23): jy hou jou toonhare kort, skuur jou hakke, knip jou toonnaels en verf dit rooi, was jou ore, sit silwer oorbelle in dat mense vir jou oorbelle kyk en nie jou ore bestudeer nie.

 

Ons mooier ledemate kort nie soveel aandag nie. Jy gee vir jou voete ‘n pedicure, maar mors nie ure om die iris van jou oog (die gekleurde deel) mooi te maak nie (v.24). God het die liggaam so saamgestel dat ons nie vergeet van die mense wat agter die skerms werk nie. Ons hou baie van helder rooi, geel, blou, groen, en pienk. Maar as jy skilder gebruik jy bruin, grys, swart, en wit meer as die helder kleure (v.24). Ons het die mense wat agter die skerms werk nodig. Laat ons dan ons tyd aan hulle wy, net soos wat jy meer tyd aan die kar se lelike enjin wy as aan die aantreklike bakwerk (v.25).

 

As jou tand pyn lê die hele liggaam wakker; as ‘n lidmaat skei of ‘n kind aan die dood afstaan, voel almal die pyn (v.26a). As kanker suksesvol uit die liggaam gesny word, voel die hele liggaam beter; as ‘n lidmaat na tien maande werk kry of as iemand swanger is, is almal bly (v.26b).

 

Wees betrokke en werk saam. Moet jouself nie aan ander meet, jouself bejammer, en dink jy is onnodig omdat jy nie iemand anders se gawe het nie (v.14-20). Moet ook nie hoogmoedig wees en dink jy benodig nie ander se hulp en gawes nie. Moenie dink jy kan alleen die werk doen nie (v.21-26).

 

Mense bedank te maklik uit kerke uit. Hulle skuif te maklik na ‘n ander kerk toe. God het jou baie spesifiek en met ‘n doel geplaas waar jy is (v.18). As jy skuif verloor ons ‘n oog en kry ‘n ander kerk ‘n derde oog. Die liggaam het nie drie oë nodig nie. Moet ook nie te maklik van die kerk af wegbly en by die huis sit nie. As jy alleen is, is jy nutteloos (v.19).

 

Ons het almal nodig – ook die mense wat agter die skerms die rekenaar se knoppies druk, die liede in Power Point tik, ou mense oplaai vir kerk, die geld tel, die nagmaaltafel dek (v.22). ‘n Kerk is oneffektief en nutteloos as mense verwag dat die dominee of leiers alleen vir die skape moet sorg en omgee, alleen die siekes moet besoek en mense moet beraad (v.19). Almal moet mekaar dien en vir mekaar sorg (v.25). Onbetrokke ledemate word baie gou ‘n siek liggaam.

 

Gawes en liefde (v.27-31)

In die afgelope maand het ek drie keer gehoor dat mense wat van die kerk afvallig word, so iets sê: ‘Ek is sonder die kerk, maar ek hou nog my stiltetyd en is nie sonder die Here nie.’ Die liggaam en die Hoof is een. Hoe kan jy sonder die liggaam wees en nie ook sonder die Hoof nie? Aanbid jy ‘n Jesus wat nie ‘n liggaam het nie? Iemand wat van die kerk afvallig is, is afvallig van Jesus (v.27, Kolossense 1:18). Jy het nie ‘n private verhouding met Jesus nie, maar ‘n korporatiewe verhouding (v.27, 13).

 

Om die eenheid te bou het God gawes vir die liggaam gegee (v.28):

 

[1] Bo aan die lys is apostels. ‘n Apostel is ‘n ambassadeur en gestuurde van Jesus. ‘n Apostel is deur Jesus gekies, vir drie jaar deur Hom geleer, en is ‘n ooggetuie van sy liggaamlike opstanding (Handelinge 1:21-22, 24, Romeine 1:1, 1 Korintiërs 9:1, Galasiërs 1:11-12, 18).

 

[2] Tweede belangrikste is profete (v.10).[1] Saam met die apostels is hulle die fondasie van die kerk (Efesiërs 2:20).

 

[3] Derde belangrikste is leraars. Dit verwys na mense wat die Skrifte kan uitlê en toepas. Ouderlinge moet lering kan gee (1 Timoteus 3:2, 5;17, Titus 1:9), maar ander mense kan ook die gawe hê om te preek, of ‘n Sondagskool- of Bybelklas aan te bied. ‘n Vrou wat die gawe het mag individue, vroue of kinders leer, maar mag nie in die gemeente preek nie (1 Timoteus 2:11-12).

 

[4] Kragtige werke en gawes van genesings (v.9-10).

 

[5] Helpers. ‘n Helper is wat die appy vir die ambagsman is, die ontvangsdame of sekretaresse vir die dokter is, die diaken vir die ouderling is (Handelinge 6).

 

[6] Regeringe. Die Griekse woord verwys na iemand wat ‘n skip stuur (sien Handelinge 27:11, Openbaring 18:17). Ouderlinge moet die skip van die kerk stuur; hulle moet reg oor die kerk regeer (1 Timoteus 3:5, 5:17, Hebreërs 13:17).

 

[7] Tale (v.10).

 

Paulus noem nóg gawes in Romeine 12:6-8, Efesiërs 4:11:

 

[8] Diensbaarheid. Die Griekse woord is diakonia. Matteus 25:44 praat onder andere van diakoneo (die werkwoord vorm van diakonia) as besoeke aan siekes, gasvryheid, en die versorging van armes.

 

[9] Vermaning. Die Griekse woord is parakaleo. Johannes 14:16 praat van die Heilige Gees as die parakletos. Dit beteken letterlik om langs iemand te staan om hom reg te help, te bemoedig, aan te spoor, te vertroos.

 

[10] Uitdeel. Hierdie persoon is iemand wat graag en met groot vrygewigheid sy geld en besittings uitdeel (Efesiërs 4:28).

 

[11] Leierskap. Dit verwys onder andere na ouderlinge, maar nie nét na hulle nie. Hierdie mense is dié wat goed kan organiseer en delegeer.

 

[12] Barmhartigheid. Saam met die diensbare mens gee die barmhartige mens om vir siekes, weeskinders, weduwees, armes, ou mense, en ander wat swaar trek.

 

[13] Evangelis. Almal moet die evangelie deel (Matteus 28:19), maar hierdie persoon vind die hoogste plesier en sukses in hierdie taak.

 

[14] Herder-leraar. Vandag ken ons dit as dominees. Hulle taak is nie om die kerk te verf en die geld te bank nie, maar om God se skape met die Woord te voed en te versorg (1 Petrus 5:2-3, Handelinge 20:28, Jeremia 3:15, Johannes 21:15-17).

 

Almal het nie dieselfde of elke gawe nie (v.29-30), en daarom het ons mekaar nodig. Die Korintiërs het die ‘beter’ gawes begeer (v.31).[2] In die konteks van die hoofstuk sê Paulus hulle moenie die ‘beter’ gawes soek nie, maar eerder die liefde najaag (v.31, hfst.13).

 

Gebruik jou gawe om die liggaam op te bou. Heel eerste moet jy weet wat jou gawe of vaardigheid is. Wat doen jy goed? Wat doen jy wat ander help? Wat geniet jy?

 

  • Lering? Ken jy die Skrif goed en glo jy die 1689 Baptiste Geloofsbelydenis? Ons het iemand nodig om Sondagskool te gee vir kleintjies. Dalk kan jy iemand dissipeleer?
  • Helper? Wil jy dalk die bulletin doen, die nagmaaltafel dek, kelkies ná ‘n nagmaal diens opneem, die offergawe opneem, tafels uitpak en wegpak ná tee, aanbied om die liede in Power Point te tik, ‘n webtuiste vir die kerk ontwerp, ‘n instrument speel, in die koor sing, die saal mooi maak of kook vir gemeente etes, eetgoed maak vir begrafnisse, die kerk se tuin mooi maak, kyk dat daar toiletpapier in die badkamers is, herstelwerk doen as ons ‘n werksdag het, aanbied om mense se kinders te baby sit, blomme in die kerk sit, tee skink na die diens?
  • Regeerder? Kan jy goed organiseer?
  • Leier? Wil jy graag ‘n ouderling wees (1 Timoteus 3:1)? Kwalifiseer jy moreel (1 Timoteus 3:2-7)?
  • Diensbaarheid, barmhartigheid? Sal jy die siekes besoek, jou huis oopstel vir ‘n Bybelstudie, ou mense vervoer, en help met armsorg?
  • Vermaning, bemoediging? 1 Tessalonisense 5:14 som jou taak op: “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” Werk met mense wat depressief is, in sonde val, nie meer kerk toe kom nie.
  • Uitdeel? Wil jy geld gee vir die armes of sendelinge?
  • Evangelis? Hou kontak met sendelinge. Kom evangeliseer saam op Vrydae om 14:00. Nooi mense kerk toe. Berei voor uit Operation World dat ons op Sondae vir verskillende wêreldlande kan bid.
  • Herder-leraar? Is jy dalk geroep vir die evangelie-bediening?
  • Geloof? Skakel in by ‘n gebedsgroep (Sondae en Woensdae). Begin ‘n sms-gebedsketting.
  • Kennis? Skryf goeie Christelike literatuur, deel goeie Christelike boeke uit, begin ‘n boektafel.
  • Wysheid? Praat met wysheid in gemeentevergaderings.
  • Onderskeiding van geeste? Waarsku mense teen vals lering.

 

Hoekom moet jy jou gawe gebruik? As jy dit doen sal jy beloon word (3:14). As jy dit nié doen nie, sal jy jou beloning verloor (3:15).

 

‘n Tannie in my ouma se Tehuis het 100 geword. Haar brein het niks makeer nie, maar haar liggaam het ingegee. God wil nie hê die kerk moet so wees nie: die Hoof (Jesus) makeer niks nie, maar die liggaam is siek en verdeeld; die ledemate werk nie meer nie en moet geamputeer word.

 

My vriend Jannie Vosloo het een jaar by ‘n Paaskamp gepreek oor die liggaam wat die Hoof akkuraat moet weerspieël en by Hom moet pas. Ons sal dit net regkry as elke lid dien en betrokke is.

[1] Sien my preek oor 1 Korintiërs 12:1-11 (Verwarring oor die gawes) vir ‘n verduideliking van die gawes van profesie, tale, uitleg van tale, genesing, kragtige werke, geloof, onderskeiding van geeste, ‘n woord van kennis, en ‘n woord van wysheid.

[2] In die Grieks kan hierdie vers as ‘n opdrag of ‘n stelling gelees word.

Advertisements

Die ontheiliging van die nagmaal

Lord's Supper

In my jong dae het ons gemeente ná elke eerste Sondag se nagmaaldiens ‘n liefdesmaal gehad. Almal het hulle eie kos gebring en dit met mekaar gedeel: pampoenkoekies, Blue Bonnet rys, gebraaide hoenderboudjies en aartappels, frikkadelle, koolslaai, groenslaai, wortel slaai, vla, malva poeding, koeldrank, en meer.

 

In die eerste paar eeue n.C. het elke gelowige sy eie brood en wyn bygedra vir die nagmaal. Mense het hulle brode op ‘n tafel uitgepak, en die wyn is in een groot silwer beker uitgegooi. Almal het met mekaar gedeel.[1]

 

In Paulus se tyd het die kerk – soos met die Joodse Pasga – ‘n liefdesmaal gehad tussen die brood en die beker (vgl. die beker die ete in v.25, Judas 12).[2]

 

Hou dié dinge in gedagte as jy 1 Korintiërs 11:17-34 lees. Paulus spring heen en weer tussen ooreet, dronkenskap, en honger wees by die liefdesmaal, en die ontheiliging van die nagmaal as gevolg daarvan.

 

Partyskap (v.17-22)

‘n Paar jaar gelede het ons probeer om 14:00 op ‘n Sondagmiddag ‘n Engelse diens te hou. ‘n Afrikaanse vrou het gekom. Later het sy soms die oggend- en aanddienste bygewoon. By een aanddiens het sy die preek onderbreek: ‘Ja, is pastoor!… Amen!… Ja, is so!…’

 

Na die diens het ons gesien sy is dronk. My vriend het vir haar gesê: ‘Jy is altyd welkom by die kerk, maar jy moenie dronk wees en die res steur nie.’ Deur haar sterk drank asem het sy gesê: ‘Ek is nie dronk nie.’ My vriend se reaksie was: ‘Dan lieg jy ook nog!’

 

Om ‘n dronk persoon by ‘n braai, rugbywedstryd, dansklub, of partytjie te sien is normaal. Om ‘n dronk persoon by die kerk te sien is nie. Dis byna gelyk aan lastering as ‘n gelowige die nagmaal so ontheilig (v.17-22).

 

Rakende die liefdesmaal en die nagmaal kon Paulus die Korintiërs nie prys nie: hulle samekoms hiervoor was nie ten goede vir die opbou van die liggaam nie, maar ten kwade (v.17, 30, kontr. v.2). Die nagmaal moes die eenheid van die liggaam uitgebeeld het (10:17, vgl. Johannes 11:52, 13:34-35, 17:21, 23). Paulus het egter by Chloë se gesin gehoor dat die kerk verdeeld was (v.18, 1:10-13).

 

Paulus het die nuus geglo, want partyskap – selfs in die kerk – is deel van ons lot terwyl ons op die aarde is (v.18-19, vgl. Matteus 18:7). God het partyskap toegelaat as ‘n toets om te wys wie eg was, en wie soos ongelowiges optree (v.19, 1 Johannes 2:19).

 

Die teenwoordigheid van brood, wyn, en die samekoms van gelowiges was nie die enigste vereiste, voordat dit die nagmaal van die Here kon wees nie. As die kerk partydig was, hulle kos nie met die armes gedeel het nie, vir hulleself geëet het, en dronk was (v.21), was dit húlle tafel en nie Hére s’n nie (v.20).

 

Paulus was geskok en kon hulle nie prys nie. Die doel van die nagmaal en die liefdesmaal was nie dat hulle hulself moes ooreet nie (v.22). Deur só te eet het die armes niks gekry nie en is hulle verneder (v.22, vgl. Spreuke 17:5, Jakobus 2:6). Die rykes het die kerk verag wat God met sy bloed gekoop het (v.22, Handelinge 20:28).

 

Instelling (v.23-26)

R.C. Sproul vertel hoe hy eenkeer die onvergeeflike sonde van ‘n Seminarium professor gepleeg het, en sy humeur verloor het met ‘n student. In die klas het die student met ‘n arrogante houding gesê: ‘Hoekom moet ons brood en wyn gebruik by die nagmaal? Wat as ek lus is vir Coke en ‘n grondbonebotter en konfyt toebroodjie?’ Sproul het sy stem verhef: ‘Want Jesus het nie Coke en konfyt toebroodjies vir die gebruik van die nagmaal afgesonder nie – Hy het brood en wyn afgesonder!’ Ons ontheilig die nagmaal as ons dit vier soos wat ons wil, en nie soos wat Jesus dit ingestel het nie.

 

Die Korintiërs moes die nagmaal vier soos wat Paulus dit by Jesus ontvang het en oorgelewer het (v.23, 15:3, Galasiërs 1:12).[3] Jesus het die brood gebreek in die nag waarin Judas Hom verraai het (v.23). In die Evangelies het ‘nag’ ook ‘n simboliese betekenis: die magte van duisternis wou die Lig van die wêreld uitdoof (Johannes 3:19-21, 8:12, 13:30, Lukas 23:53).

 

Jesus het brood geneem, omdat Hy self die Brood van die lewe en die Manna uit die hemel is (v.23, Johannes 6:31-35). Let ook op dat Jesus self die brood vir sy dissipels gegee het – hulle het dit nie self geneem nie (v.23). So het Hy gewys dat Hy uit eie keuse sy lewe afgelê het (Johannes 10:18). Daarna het Jesus vir die brood gedank (v.24). Dit was wel ‘n dankgebed vir die kos (1 Timoteus 4:5), maar dit was meer as dit. Dit was ‘n dankgebed vir die verlossing wat Hy vir ons sou bewerk.

 

Hoekom het Jesus die brood gebreek (v.24) as die Skrif duidelik sê dat sy bene nie gebreek is nie (Johannes 19:33, 36)? Dit mag dalk daarna verwys dat Hy gegesel is. Of dit mag na Genesis 15 en Jeremia 34 verwys, waar God ‘n verbond gemaak het deur die diere in twee te sny. Jesus se liggaam is ‘gebreek’ om die verbond te verseël.

 

‘Dit is my liggaam’ beteken nie, soos die Katolieke sê, dat die brood regtig Jesus se liggaam word nie. Jesus het gesê Hy is die ware wingerd (Johannes 15:1), en tog glo ons nie Hy het takke en blare nie. Die brood kán nie regtig Jesus se liggaam wees nie, want Hy was immers in sy liggaam voor die dissipels toe Hy die brood vir hulle uitgedeel het. Jesus se liggaam is nou in die hemel, en by sy koms sal ons Hom sien. Die feit dat Jesus gesê het ons moet dit tot sy gedagtenis eet, wys mos dat Hy nie in sy liggaam teenwoordig is nie (v.24). In die negende eeu het John Scotus Erigena gesê: ‘In communion the believer eats Christ’s flesh mentally, not dentally.’[4] Dit is tog so dat Jesus op ‘n besondere wyse geestelik teenwoordig is in die nagmaal.

 

Jesus het die brood vir sy dissipels gegee (v.24). So het Hy gewys dat sy dood nie maar net ‘n goeie voorbeeld van opoffering is nie, maar dat Hy die straf vir ons sonde op Homself sou neem (Jesaja 53:4-6). Daar is tog ‘n sekere sin waarin Jesus se dood ‘n voorbeeld van opoffering is. Die selfsugtige Korintiërs moes opoffer soos Jesus, en nie aan hulleself gedink het by die liefdesmaal en nagmaal nie (v.24-25, 21-22).

 

Jesus het ook die beker vir sy dissipels gegee (v.25). Hulle moes beide die brood en die beker neem. Die Katolieke is dus verkeerd om net die brood te neem, terwyl die priester alleen die beker drink. Wat word in die beker uitgebeeld? Jesus het die beker van toorn gedrink wat ons verdien (Johannes 18:11, Lukas 22:42, Jesaja 51:17, Jeremia 25:15-29), en vir ons die beker van verlossing gegee (Psalm 23:5, 116:13).

 

Die rooi kleur van die wyn is ‘n prentjie van sy bloed wat die nuwe verbond verseël (v.25, Hebreërs 9:16-22). Die vrug van die wingerd herinner ons daaraan dat Jesus die ware wingerd is (Johannes 15:1).

 

Weereens is dit nie so dat die wyn letterlik Jesus se bloed word nie (‘transsubstansiasie’ is die groot woord). Toe Dawid se manne hulle lewens waag en vir hom water in Betlehem gaan skep, het hy dit op die grond uitgegooi en gesê: “Dit is ver van my, HERE, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed drink van die manne wat met lewensgevaar gegaan het?” (2 Samuel 23:17). Sekerlik het Dawid nie gedink dat die water letterlik in sy soldate se bloed verander het nie. Hy het eenvoudig bedoel dat hulle hulle lewens gewaag het. Net so wys die nagmaalbeker dat Jesus sy lewe vir ons gegee het.

 

Deur die nagmaal te gebruik verkondig ons dat Jesus sy lewe vir ons opgeoffer het aan die kruis (v.26). En sal die Korintiërs nie eers hulle kos opoffer vir die arm gelowiges in die gemeente nie (v.21)?

 

Ons moet die nagmaal gebruik totdat Jesus weer kom (v.26). Dit wys duidelik dat Jesus nie meer dood is nie, maar lewe.

 

Ondersoek (v.27-34)

In die eerste paar eeue het gelowiges elke Sondag die nagmaal gevier.[5] Na die vyfde eeu het ‘gewone’ Christene dit al hoe minder gebruik. Teen die sesde eeu het hulle dit slegs op Kersdag, Paas-Sondag, en Pinksterdag gebruik. Later van tyd het hulle dit glad nie gebruik nie, maar toegekyk hoe die priester die brood eet en die wyn drink.

 

Mense het geglo dat die nagmaal regtig in Jesus se liggaam en bloed verander. Hulle was bang en het onwaardig gevoel om dit te gebruik. Die priesters het gesê dat slegs toegewyde Christene kan deelneem. Hulle het die standaard so hoog gestel dat die beste Christene bang was om die nagmaal te gebruik.[6]

 

Toe Martin Luther in 1507 vir die eerste keer as priester by die tafel gestaan het, was hy doodbang vir die Regter van die hele aarde. Hy wou weghardloop maar het homself gedwing om die mis (die Katolieke naam vir die nagmaal) deur te sien. Dit is glad nie wat Paulus met die onwaardige gebruik van die nagmaal bedoel nie (v.27-34).

 

Paulus wou die ontheiliging van die nagmaal regstel, en daarom het hy die kerk in Korinte gewaarsku (v.27-34, 17-22). Jesus se kruisdood is ‘n ernstige saak, en daarom moes hulle die uitbeelding daarvan nie op ‘n onwaardige wyse gebruik nie (v.27, 21-22). Om so te doen is om teen Jesus se liggaam en bloed te sondig. Dit is asof jy Hom weer kruisig (v.27, Hebreërs 6:6, 10:26, 29).

 

Die Korintiërs moes hulleself ondersoek voordat hulle geëet het: was hulle verdeeld, bitter, skuldig aan ander sondes, of ongered (v.28)? ‘n Gelowige wat sy sonde liefhet, of nie die betekenis van die kruis en die nagmaal onderskei nie, nooi God uit om Hom te oordeel (v.29).

 

Dis juis omdat die Korintiërs hierdie dinge gedoen het dat God baie van hulle met siekte, swakheid, en die dood geoordeel het (v.30, vgl. 1 Johannes 5:16, Handelinge 5:1-11, 2 Samuel 12:14-15, 18). Sommige kommentators dink dat hulle siekte en dood die gevolg was van ooreet, dronkenskap, of geen kos nie. Maar dit blyk eerder dat God bonatuurlik ingegryp het om hulle te dissiplineer.

 

As die Korintiërs hulleself geoordeel en ondersoek het, sou God hulle nie getug en geoordeel het nie (v.31). God het hulle getug sodat hulle van hulle sonde sou wegdraai, en hulle nie uiteindelik saam met die wêreld geoordeel sou word en hel toe gaan nie (v.32).

 

Om God se oordeel vry te spring moes hulle met die armes deel en nie self alles opeet nie (v.33). As hulle honger was moes hulle by die huis geëet het, en dan genoeg kerk toe gebring het om met die armes te deel (v.34). As hulle dít gedoen het, sou God hulle nie geoordeel het nie (v.34).

 

Nou ja, dis al wat Paulus vir nou wou sê. Daar was nog reëlings wat hy sou tref as hy na hulle toe gekom het, maar dit raak die Korintiërs alleen en nie vir ons nie (v.34).

 

Die les uit hierdie hoofstuk is duidelik: moenie die nagmaal ontheilig nie.

 

[1] Jy ontheilig die nagmaal as jy vergeet wat dit Jesus gekos het, as jy dit ligtelik opneem, en as jy daarmee speel eerder as om dit te ontvang met vrees, eerbied, erns, danksegging, lofprysing, en liefde (v.24, 27).

 

[2] Jy ontheilig die nagmaal as jy familiêr raak daarmee, dit beskou as alledaags soos enige ander ete, dit maklik misloop, dit – soos Arthur Pink – vir lang tye nie gebruik nie. Onthou dat dit Jesus se sterwenswens was: eet hierdie brood en drink die beker tot my gedagtenis. Die nagmaal is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag totdat Jesus weer kom (v.24-26). Ons mag dus nie, soos die Heilsleer, besluit om dit glad nie te vier nie.

 

Gedenk dit gereeld (elke week, maand, kwartaal?) sodat jy daardeur Jesus se kruisdood vir jou sondes kan onthou (v.26, Handelinge 2:42, 46). Dit sal jou help om nie met sonde te speel nie, maar ook dat jy nie moedeloos word en daarin wegsink nie.

 

[3] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie omgee vir die eenheid van die liggaam nie, as jy dit op jou eie, saam met jou vriende, of saam met jou gesin vier (let op hoe Paulus in v.17-18, 20, 33-34 die woord ‘saamkom’ gebruik). Toewyding aan die nagmaal en gesamentlike gemeenskap gaan hand aan hand (Handelinge 2:42).

 

[4] Jy ontheilig die nagmaal as jy verdeeld, vyandig, of bitter is (v.18-19). In dié geval is dit nie die nagmaal wat jy gebruik nie (v.20). As jy onenig is met ander gelowiges, moet jy dit vandág regstel. Bely jou sonde, vergewe jou broer, raak versoen. Jesus het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” (Matteus 5:23-24). “vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efesiërs 4:32).

 

Moenie wag totdat die persoon sterf, sodat jy by sy graf moet sê: ‘Was dit regtig nodig dat ek ‘n wrok moes dra? Hoekom het ek dit nie maar net uitgesorteer nie?’

 

[5] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie jou hart ondersoek vir sonde nie; as jy nie berou het, jou sonde bely, dit haat, en daarmee ophou nie (v.28, 5:11). ‘Trek jouself aan in die spieël van die Skrif, voordat jy na die nagmaaltafel toe kom.’[7] Voordat jy kerk toe kom moet jy jou hart voorberei. Pa’s moet hulle gesinne hierin lei. Waak tog op Saterdae en Sondae vir die versoekings van die duiwel, die vlees, en die wêreld.

 

[6] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie die betekenis van die kruis, die brood, en die wyn verstaan nie (v.29). Juis om dié rede moet klein kinders nie die nagmaal gebruik nie.

 

[7] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie gered is nie (v.28). “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef.” (2 Korintiërs 13:5). Jy bely dat Jesus vir jou sonde geoffer is, maar geniet die eindste sonde waarvoor Hy gesterf het. So maak jy ‘n bespotting van die nagmaal. Moenie dink jy kan lewe soos jy wil, omdat Jesus vir jou gesterf het nie. As jy met jou sonde aanhou sal jy self die beker van God se toorn moet drink (Openbaring 14:10). Bely dan jou sonde, bekeer jou, en rus in volle vertroue op Jesus se kruisdood en opstanding.

 

[8] Jy ontheilig die nagmaal as jy dit aanbid asof dit towerkrag het, en dit nie sien as iets wat na Jesus toe wys nie. Die Katolieke beskou die nagmaal as ‘n offer wat ons sondes vergewe. Sekere Protestante maak asof die bloed van Jesus towermag het om hulle huise, karre, en kinders te beskerm. Party charismatiese Christene glo dat die nagmaal krag het om siektes te genees. Hulle fokus dus op die teken, en nie op dít waarvan die teken getuig nie.

 

[9] Jy ontheilig die nagmaal as jy dit gebruik of daarvan af wegbly op grond van hoe waardig jy voel, eerder as om ten volle op Jesus se perfekte kruisoffer te vertrou. Jy is soos iemand wat sê: ‘Ek voel nie goed nie, en daarom sal ek nie dokter toe gaan nie.’

 

Ontheilig jy die nagmaal? Die oplossing is nie om weg te bly, totdat jy reg voel nie. Jy moet juis nié wegbly nie, maar na die tafel toe kom om dinge reg te stel. As jy van die tafel af wegbly sê jy indirek dat jy dit nie wíl regstel nie, maar aanhou met jou sonde.

 

Die oplossing is om jou voor te berei soos hierbo verduidelik. Selfs as jy jou vir die nagmaal voorberei het, moet jy nie op jou voorbereiding vertrou nie, maar op Jesus alleen. Ook jou gebede en jou belydenis moet gewas wees in die bloed van Jesus. Ja, wanneer jy by die tafel aansit moet jy besef dat jy ‘n ellendige sondaar is. Maar fokus op Jesus se kruisdood en nie op jou sonde nie. ‘For every one look at sin, take ten looks at Christ.’ (Edward Welch).

 

Hoekom moet jy nie die nagmaal ontheilig nie? Jy sal siek word, sterf, of saam met die wêreld geoordeel word as jy jou nie bekeer nie (v.30, 32).

 

Toe ek op Seminarium was het een van my dosente ons vertel van ‘n jong student wat op Cornelia moes preek. By die nagmaaltafel het hy ‘n stoel nader getrek. Hy het sy voete oor die stoel laat rus en vir die mense gesê: ‘Ek gaan nie vandag vir julle preek nie. Ek wil net ‘n bietjie met julle gesels.’ Die mense was baie ontsteld.

 

Dalk dink jy dat uiterlike aksies nie saakmaak nie. ‘God kyk na die hart,’ sê jy. Jy’s reg. Tog sal iemand wat in sy hart eerbied en liefde het vir Jesus en die evangelie, dit uiterlik wys deur hoe hy met die nagmaal omgaan.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.71

[2] Hofius in David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.546

[3] Paulus het nie sy lering oor die nagmaal by die ander apostels gekry nie. 1 Korintiërs is waarskynlik voor enige van die Evangelies geskryf.

[4] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, p.69

[5] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.68

[6] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, pp.62-63

[7] Thomas Watson, The Lord’s Supper, p.40

Hoekom ons kerk nooit weer moet skeur nie

Church split

In ons gemeente register van 2003 is daar – kinders en besoekers uitgesluit – 156 name.  In dieselfde jaar het die gemeente geskeur, sodat daar 109 lidmate oorgebly het, waarvan ‘n klomp onaktief was of getrek het.  Solank as wat ons op aarde is, sal die kerk onvolmaak wees.  Tog hoop ek 1 Korintiërs 3:1-17 help ons om die eenheid te bewaar.

 

Dit maak ons soos die wêreld (v.1-4)

Twee weke gelede was daar choas in die Suid-Afrikaanse parlement.  Die EFF se leier, Julius Malema, wou van die president weet wanneer hy van plan was om die geld terug te betaal wat hy op Nkandla spandeer het.  ‘n Geveg het ontstaan.  Toe leiers handgemeen geraak het, is die EFF uit die gebou verwyder.  Nie elke ongelowige is op dieselfde vlak verdeeld nie.  Tog is verdeeldheid in ‘n algemene sin kenmerkend van ongelowiges (Galasiërs 5:20).  Maar dis tragies as Jesus se kerk verdeeld is.

 

Die Korintiërs het opgetree asof hulle ongeestelik en ongered was (v.1, 2:14-15).  Hulle was geestelik onvolwasse; babas (v.1, 6).  Vir ‘n baba om melk te drink is natuurlik (v.2).  Maar dis hartseer as ‘n ou Christen nog melk drink (v.2).  “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.  Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is.  Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” (Hebreërs 5:12-14).

 

Gehoorsaamheid aan die sondige vlees maak jou soos die wêreld (v.3-4, 1:11-12).  Paulus sê in Galasiërs 5:19-20:  “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik… vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap”.  As jy soos die wêreld leef kan jy nie die waarheid reg verstaan nie:  “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (2:14).

 

Leer die basiese waarhede van die Skrif as jy ‘n nuwe Christen is.  Met ander woorde, drink melk.  Maar moenie vir ewig melk drink nie.  Groei in die Here.  Moenie na 10 jaar nogsteeds net ’n kort dagstukkie lees en ‘n rympie bid nie.  Dis sleg as iemand wat vir 25 jaar ‘n Christen is sê:  ‘Ek soek nie eksposerende prediking nie.  Ek is nie hier om geleer te word nie.’  Ek wil jou uitdaag om die Bybel meer te lees en gevul te wees met die Gees.  So sal ons twis en partyskap vermy (Hebreërs 5:12-14, Galasiërs 5:19-23).

 

Wyle Martin Holdt het ons uitgedaag om tien hoofstukke per dag te lees.  Vir my persoonlike groei het dit wonders gedoen.  ‘n Ander man het ons uitgedaag om ‘n Bybelboek dertig keer deur te lees.  As jy na ‘n maand ‘n boek soos Efesiërs dertig keer gelees het, deurtrek dit jou soos water ‘n spons deurtrek.  Is dit dalk tyd dat jy dieper delf?  Moenie net oorsigtelik lees nie, maar bestudeer die hoofstuk deeglik.  Koop vir jou ‘n Bybelkonkordans, sodat jy kruisverwysings kan opsoek.  Bid vir insig.  Dink.  Herdink.  Daar bestaan nie iets soos stilstaan in die Christelike lewe nie.  As jy nie vorder nie gaan jy agteruit.

 

Dit verhef mense bo God (v.5-9)

Sewe jaar gelede het my vriend ‘n Baptistekerk geplant in die Kaap.  Vandag is hulle (saam met die kinders) omtrent 300 mense op ‘n Sondag.  Laasjaar het hy my gebel en gesê:  ‘Lank terug het jy gesê God besluit hoe groot ‘n kerk sal wees – jy was reg.’  Ek kan eerlikwaar nie onthou dat ek dit gesê het nie, en dink dat ek dit by hóm geleer het.  Maar dis waar.  Gód het besluit dat George Whitefield vir duisende mense sou preek, terwyl David Brainerd vir ‘n paar Indiane in die Noord-Amerikaanse woude sou preek; dat Spurgeon duisende bekerings sou sien, terwyl Jim Elliot onder die Aucas nie een bekeerling gehad het nie.  Omdat dit so is, is dit dom om mense aan te hang, hulle bo God te verhef, en verdeeld te wees (1:12).

 

Hoekom het die Korintiërs vir Paulus en Apollos opgehemel?  Hulle was maar net diensknegte wat vir die Korintiërs gesê het om in Jesus te glo (v.5).  God het sy diensknegte gebruik soos Hý besluit het (v.5).  “ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is” (Romeine 12:6).  Paulus het die kerk geplant en Apollos het die nuwe ‘plantjies’ in God se tuin natgelei (v.6, 4:15, 9:1, 15:1, Handelinge 18:11, 27).  Maar dit was God wat die kerk in bekerings, getalle en geestelike diepte laat groei het (v.6).  Paulus en Apollos is niks; God is alles (v.7).  Soli Deo Gloria – Aan God alleen die Eer.  Die Christene in Korinte was verkeerd om vir Paulus en Apollos teen mekaar te stel; hulle was nie vyande nie, maar medewerkers in die Here (v.4, 8).

 

God sou hulle nie beloon volgens hulle gawes nie, maar volgens hulle getrouheid:  “maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang.” (v.8).  God besluit hoeveel gawes jy het.  Maar dit is jou plig om te sorg dat jy getrou is daarmee.  Op die oordeelsdag sal Hy nie sê:  ‘Sjoe, jy het baie gawes gehad; daarvoor sal Ek jou beloon’ nie.  Eerder:  “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel.  Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Matteus 25:23).  Of:  “Jou slegte en luie dienskneg” (Matteus 25:26).

 

Dié wat preek is medewerkers.  Die kerk is ‘n vrugbare stuk grond; ‘n gebou (v.9).  Die medewerkers, grond en gebou is Gód s’n (v.9, 16).  Wanneer die gebou dus in sy glorie staan, moet almal die Bouer prys en nie die gereedskap nie (1:12)!

 

Om te keer dat jy mense bo God verhef, moet jy hulle teen God en sy Woord meet; nie teen ander mense nie (v.5).  “Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp.” (Job 33:6).  “Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.” (Psalm 103:14).  “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” (Psalm 130:4).  Hoekom maak jy nie ‘n studie van sonde en genade nie?  Jy sal gou besef dat jy niks is nie en niks verdien nie.  Dit sal ook help dat jy nie te veel maak van mense nie, maar besef dat almal voete van klei het.  Doen Bybelstudie oor die wese en karakter van God.  Weer sal jy besef dat die mens baie klein is.  As jy diep oor die dood nadink, sal jy ook agterkom dat die geestelike leiers oor wie almal gons glad nie so fantasies is nie.  Die Skrif leer:

 

  • “Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is; want hoe min is hy werd!” (Jesaja 2:22).
  • “Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras?” (Jesaja 51:12).
  • “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” (Psalm 146:3-4).

 

Moenie dink iemand is wonderlik omdat hy baie gawes het nie.  Luister eerder na die man wat getrou is, saam met God werk, en mense wegwys van homself af na Jesus toe (v.7-9).  Moenie dink dat ‘n man met baie gawes, sukses en ‘n groot kerk outomaties die Here se seën en guns geniet nie.  As jy mense begin ophef het jy probleme.  Een groep hou van Paulus, terwyl ‘n ander groep meer van Apollos hou.  Verdeeldheid is die eindproduk.

 

Dit bring God se oordeel (v.10-17)

Lank gelede het ‘n goeie Chinese keiser ‘n paleis gebou vir sy nuwe bruid.  Bouers van regoor die land het gekom om te help.  Toe die paleis voltooi was het die keiser sy bouers betaal.  Dié wat goed gebou het, het ‘n kis vol van fyn goud gekry.  Dié wat slordig gewerk het kon in die keiser se vredevolle ryk bly, maar het geen betaling gekry nie.  Sommige bouers het hulle medebouers geslaan, beskadig en doodgemaak.  Hulle het die doodstraf gekry.  God doen dieselfde met almal wat help om aan sy tempel (v.16) en koninkryk bou.

 

Paulus se kunstige vaardigheid as ‘n bekwame boumeester[1] was ‘n gawe van God se soewereine genade (v.10).  Hy sê elders:  “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.” (15:10).  In Romeine 12:3 skryf hy “deur die genade wat aan my gegee is”.  Petrus sê dat Paulus geskryf het “met die wysheid wat aan hom gegee is” (2 Petrus 3:15).

 

Saam met die ander apostels het Paulus deur sy evangelie-prediking reeds die fondasie van Christus gelê; dié fondasie kan nie weer gelê word nie (v.10-11, Jesaja 28:16, Efesiërs 2:20, Galasiërs 1:6-9).  Die res moet op dié fondasie bou.  Soos wat Salomo die beste en duurste boumateriaal vir die tempel gebruik het, moet ons ons beste gee as ons saam met Jesus werk om sý tempel – die kerk – te bou (v.10-12).  Wat saakmaak is nie hoe baie gawes jy het nie, maar hoe jy dit gebruik.  Jy kan mense flous, maar jy kan nie die Here flous nie.  Wat jy saai sal jy maai (Galasiërs 6:7).  Op die oordeelsdag sal God jou werk toets soos wat vuur edelmetale toets (v.13).  Deur dié toets sal dit gou bekend word of jy jou beste gedoen het (goud, silwer, edelstene), en of jy slordig gewerk het (hout, hooi, stoppels).  Kwaliteit-werk sal beloon word (v.14, 8).  Iemand wat slordig gewerk het se werk sal verbrand word.  Hy sal wel gered word, maar sal sy beloning verloor (v.15, Judas 23).  Maar vir iemand wat God se kerk uitmekaarskeur – die kerk is die tempel van die Heilige Gees! – is daar geen genade nie:  God sal hom vernietig (v.16-17, vgl. Efesiërs 2:22).

 

Help die Here om sy huis te bou.  Moet dit nie vernietig nie.  Wees tevrede met die gawe wat God jou gegee het.  Moet dit nie met ander s’n vergelyk, sodat jy ontevrede of jaloers is, en kla nie.  Op die oordeelsdag sal jy bly wees dat jy net een gawe gehad het.  ‘n Jong predikant het by ‘n ouer een (was dit Spurgeon?) gekla:  ‘Ek wens ek het ‘n groot kerk gehad.  Dis nie lekker om so ‘n klein gemeente te hê nie.’  Die ouer man het gesê:  ‘Op die oordeelsdag sal jy rekenskap gee van die skape wat onder jou sorg was – dán sal jy nie kla dat jy net vir ‘n paar hoef te antwoord nie.’

 

Doen jou bes met die vaardigheid en gawe wat jy ontvang het.  Gebruik dit om die liggaam op te bou (12:7).  Probeer om jou gawe te verskerp en verbeter:  “Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” (1 Timoteus 4:15).  Dien met blydskap, want anders is dit nie tot die gemeente se voordeel nie (Hebreërs 13:17).  Sorg dat jy dien met liefde vir God en mense, anders beteken jou gawe niks (13:1-3).  Sommige van my lesers en hoorders het hulle gawes begin afskeep.  Moenie traag wees, ontmoedig raak, of opgee nie.  Mag die volgende verse jou aanmoedig om jou gawe te gebruik:

 

  • “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” (15:58).
  • “Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie” (1 Timoteus 4:14).
  • “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is” (2 Timoteus 1:6).
  • “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Galasiërs 6:9).
  • “Vervloek is hy wat nalatig is om die werk van die HERE te doen” (Jeremia 48:10).

 

Het jy iets teen iemand; weier jy om iemand te vergewe?  Het iemand iets teen jou?  Jy hoef nie altyd reg te wees nie.  Verneder jouself en gaan sorteer dit uit.  Jy wil tog nie God se tempel vernietig en geoordeel word nie, wil jy (v.16-17)?  Die Skrif sê:  “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” (Matteus 5:23-24).  “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.  En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” (Kolossense 3:12-14).

 

Hoekom moet jy so werk om die liggaam op te bou?  God se Woord motiveer ons met belonings in die hemel (v.14-15).  In 4:5 sê Paulus oor die wederkoms:  “dan sal elkeen lof van God ontvang.”  In sy tweede brief skryf hy:  “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” (2 Korintiërs 5:10).  Die woord vir ‘kwaad’ beteken ook ‘waardeloos’.  Soos in v.14-15 praat Paulus in 2 Korintiërs 5:10 van Christene se beloning.  Nóg tekste wat van verskeie grade van beloning vir Christene praat is:

 

  • “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang.” (2 Johannes 8). Duidelik is dit moontlik om nié ‘n beloning te kry nie (soos wat 1 Korintiërs 3:15 ook sê).
  • “Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.” (Lukas 12:33). Iemand wat meer vrygewig is, sal meer skatte in die hemel hê.
  • “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” (Openbaring 22:12).
  • “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.” (Lukas 6:22-23). Net dié wat vir die Here vervolg is, sal hierdie loon ontvang.
  • “Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang; en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die loon van ‘n regverdige ontvang. En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.” (Matteus 10:41-42).

 

Dalk wonder jy of grade van beloning nie juis jaloesie sal aanmoedig nie.  Thomas Watson sê oor dié saak:  ‘In heaven some people’s cups will be bigger than others, but everyone’s cup will be full.’  As ek vir my oudste kind vyf sjokolades gee, vir die middelste een drie, en vir die jongste een twee, sal daar jaloesie wees.  Maar gestel ek sit ‘n pak sjokolades neer en sê:  ‘Eet soveel as wat julle wil’.  As die oudste een vyf eet, die tweede oudste drie, en die jongste twee, sal hulle nie jaloers wees nie – elkeen het soveel geëet as wat hy wou.  En so werk dit met belonings in die hemel:  elkeen sal dit soveel geniet as wat hy kan.  Party se kapasiteit is egter groter as ander s’n.

 

God hou nie net ‘n wortel voor die donkie se neus nie, maar motiveer ons ook met ‘n ernstige waarskuwing:  “As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend” (v.17).  Galasiërs 5:20-21 sê “dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”

 

Ons moet Dawid se gesindheid hê:  “Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is.” (Psalm 16:3).  In die 1700’s het George Whitefield dié gesindheid gehad.  ‘I love all that love the Lord Jesus Christ’.[2]  ‘Do not tell me you are a Baptist, and Independent, a Presbyterian, a Dissenter, tell me you are a Christian:  this is the religion of heaven and must be ours upon earth.’[3]  Tydens ‘n preek het Whitefield skielik gestop, na die hemel gekyk, en gesê:  ‘Father Abraham, whom have you in heaven?  Any Episcopalians there?  “No.”  Any Presbyterians?  “No.”  Have you any Independents or Seceders?  “No.”  Have you any Methodists there?  “No, no, no.”  Whom have you there?  “We don’t know those names here.  All who are here are Chrstians – believers in Christ – men who have overcome by the blood of the Lamb and the word of his testimony.”’[4]

 

O may we find the ancient way

Our wond’ring foes to move,

And force the heathen world to say,

See how these Christians love![5]

[1] Die Griekse woord vir boumeester is architekton waarvan ons woord ‘argitek’ kom.

[2] Iain Murray, Heroes, p.48

[3] Ibid, p.70

[4] Ibid, pp.80-81

[5] Ibid, p.74

Uitverkiesing, verlossing en verdeeldheid

Grace alone

Op Maandae kyk ek en my vrou dokumentêre op YouTube.  Drie weke gelede het ons gekyk hoe hulle Navy Seals oplei.  In een program het ‘n troep kwaad geword vir sy spanmaat.  Die offisier het hom uitgetrap:  ‘As jy ‘n seal wil wees moet jy saam met ander kan werk – leer om jou humeur in toom te hou!’  Die troep het straf gekry.  Later het dieselfde troep gekul.  Hy moes 15 kg sand in sy rugsak dra, maar het daarvan uitgegooi en gedink die offisiere sou nie uitvind nie.  Toe hy by die basis kom het hulle die rugsakke geweeg.  Hy is uitgevang en uitgetrap:  ‘Jy is arrogant.  Om ‘n seal te wees gaan nie net oor fiksheid en sielkundige stamina nie, maar oor integriteit.  As jy nie eerlik kan wees nie, dan hoort jy nie hier nie.’  Hy het is weer gestraf en moes vir die res van die week ‘n rugsak met 30 kg sand in ronddra.

 

Iemand wat arrogant is dink net aan homself en kan nie in ‘n span werk nie.  Juis daarom breek die offisiere hulle troepe se selfversekerdheid.  In die kerk is dit dieselfde:  iemand wat trots is wil hê dinge moet op sý manier gedoen word, en werk nie saam met ander nie.  Uitverkiesing en God se soewereiniteit in verlossing is twee van die beste offisiere om ons hoogmoed te breek.  Dis Paulus se punt in 1 Korintiërs 1:26-31.

 

Onthou God se keuse (v.26-29)

Tussen 1945 en 1951 was Clement Attlee die eerste minister van die Verenigde Koninkryk.  Winston Churchill het dit ontken, maar volgens ander het hy oor Attlee gesê:  ‘He is very modest man.  Indeed he has a lot to be modest about.’  Iets soortgelyk het met Martyn Lloyd-Jones gebeur.  ‘n Jong predikant vir hom gesê:  ‘Please pray for me that I will not become proud.’  Lloyd-Jones het gesê:  ‘What have you got to be proud about?’  Hierdie beginsel geld ook wanneer dit by verlossing kom.  God alleen moet verheerlik word –ons het niks om op trots te wees nie.

 

Hoogmoed is lelik.  Om dit te keer het Paulus vir die Korintiërs gesê om te onthou wie en wat hulle is.  Bitter min Christene is wyse manne in die koning se hof, wêreld beroemdes, magtige vorste, invloedryke biljoenêrs, presidente, here, goewerneurs, mense met blou bloed (v.26, Johannes 7:48).  In die wêreld se oë is ons dwaas, swakelinge, nikswerd, eksentriek, fanaties, eienaardig, die skuim van die aarde (v.27-28).  Deur sy soewereine keuse het God sulke mense gered om die wêreld se wysheid belaglik te maak (v.27):  kinders weet meer van die dinge wat saakmaak as die slimste ateïste.  Jesus het gebid:  “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.” (Matteus 11:25).  Dawid sê:  “Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak.” (Psalm 8:3).  Deur sy verlossingskrag beskaam God die sterkes wat ánder kan beheer, maar nie hulle eie begeerts in toom kan hou nie (v.27).

 

Voordat Hy die wêreld gemaak het, het God die kerk uitverkies (Efesiërs 1:4-5).  Toe die kerk nog nie bestaan het nie, het God haar deur die krag van die evangelie in die lewe geroep:  “God chose what is low and despised in the world, even things that are not” (v.28, ESV).  Paulus skryf van God wat “die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.” (Romeine 4:17).  God het krag om lewe te gee en dit te neem.  Hy sal die magtiges van hierdie eeu tot niet maak in die hel (2:6, 2 Tessalonisense 2:8).

 

God word nie beïndruk omdat mense mag het, of blou bloed in hulle are nie.  Hy word nie tot iemand aangetrek omdat hulle ryk, belangrik, invloedryk, of wys is nie.  In Job 34:19 sê Elihu dat God “die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande.”

 

Niemand kan voor die Here roem en sê:  ‘Ek het God gekies en deur my eie wysheid en krag my hart nuut gemaak… God het my gekies omdat ek beter as ander is’ nie (v.29).  God het ons juis uit genade gered en nie deur werke nie, sodat niemand mag roem nie (Efesiërs 2:8-9).  Wat vir Gideon se manskappe gegeld het, geld vir ons:  “Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê:  My eie hand het my verlos.” (Rigters 7:2).  As ons gekies is omdat ons beter was as ander, sou ons gesê het:  ‘My eie hand het my verlos’.

 

God is nie deur iets buite Hom beïnvloed of gedwing om ons te kies nie, maar het ons uit sy eie vrye keuse gered.  Die Skrif sê:  “Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep… So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is… Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?” (Romeine 9:11, 16, 21).  “die verkiesing van die genade.  En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.” (Romeine 11:5-6).

 

Onthou God se keuse.  Verwerp die moderne selfbeeld lering wat sê dat Jesus vir jou gesterf het, omdat jy onweerstaanbaar en waardig was.  Jesus het jou liefgehad ten spyte van wie jy was, en nie as gevolg daarvan nie.  Onthou dat jy ‘n donker verlede het.  As die dinge in jou verlede moet uitkom, sal selfs jou beste vriende jou verwerp en sal jy uit die publieke oog moet verdwyn.  Dalk het jy sekere hoogtes in jou lewe bereik.  Maar dit sal binnekort nie saakmaak dat jy hoofseun was, eerste gekom het op SA’s, nege onderskeidings gehad het, mej. Rooivleisfees was, of op TV was nie.  Oor ‘n paar jaar sal jou kollegas en bure ‘n vae herinnering van jou hê.  Hulle sal gesig onthou, maar jou naam vergeet (of andersom).  Jou familie sal jou onthou, maar na jou begrafnis sal hulle met hulle lewens aangaan.  Na hulle dood is sal jou naam vergete op ‘n grafsteen staan.  Toe jy op aarde was het mense oor jou rykdom gesê:  ‘Hy doen goed vir homself.’  Maar noudat jy dood is, is jou geld weg en is jy niks (Psalm 49).

 

God het jou nie gered omdat jy spesiaal was nie.  Jy is niemand.  Jy is uit genade gered en nie as gevolg van jou slim keuse nie.  “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Johannes 15:16).  “Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.  Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:7-8).  “wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is” (2 Timoteus 1:9).

 

Onthou God se keuse.  Dit sal jou nederig maak om te weet dat God alles gedoen het en jy niks.  Roem in Hom en nie jouself of in mense nie (v.29, 12).

 

Onthou God se gawe (v.30-31)

‘n Bekende teoloog wou sy standpunt verdedig en het vir ‘n leek gesê:  ‘Die Heidelbergse Kategisme sê…’  Die leek het geantwoord:  ‘Ja, maar is dit wat die Bybel sê?’  Om sy saak te stel het ‘n jong student vir Jonathan Edwards aangehaal.  ‘Jonathan Edwards sou nie iets verkeerd leer nie,’ het hy gesê.  By ‘n kerkdiens het iemand vir my vriend gesê:  ‘John MacArthur het nog nooit iets verkeerd gesê nie.’  ‘n Kollega het vir my gesê:  ‘Julle jong predikante verafgod vir Martin Holdt.  Julle sing seker:  Wat ‘n Vriend het ons in Martin.’

 

All mense is sondaars en het vir Jesus nodig (v.30).  Ons moet Jesus aanbid en nie mense nie (v.31, 12).  Hy het ons verlos (v.30).  Reddding is uit genade, deur geloof.  Dis nie uit onsself nie (Efesiërs 2:8-9).  Selfs ons geloof en bekering kom van Hom af (Filippense 1:29, Handelinge 11:18).  Wat is die beslissende faktor in ons redding?  Is dit God se genade of ons keuse?  Dis nie ons keuse nie, maar sy genade.  Die sondaar is geestelik dood en kan homself nie lewendig maak nie (Efesiërs 2:1).  Niemand kan uit sy vrye keuse die Here gehoorsaam en tevrede stel nie (Romeine 8:7-8).  Net so min as wat ‘n luiperd sy kolle kan verander, kan ‘n sondaar sy eie hart verander (Jeremia 13:23).  Weergeboorte is ‘n geskenk van God (1 Petrus 1:3).  Johannes 1:12-13 sê:  “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.”

 

Die wysheid van hoe om gered te word lê in Jesus en nie in ons nie:  Hy is ons wysheid (v.30, vgl. Spreuke 2:6).  Paulus sê:  “Want wie trek jou voor?  En wat het jy wat jy nie ontvang het nie?  En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (4:7).  Alles wat ons het kom van Hom af (v.30):

 

  • Geregtigheid. Deur Jesus se geregtigheid het ons ‘n perfekte rekord voor God (2 Korintiërs 5:21). Ons ontvang dit deur die geloof (Filippense 3:9).
  • Heiligmaking. Deur die kruis het God ons vir Homself afgesonder en maak Hy ons al hoe meer soos Jesus (6:11, 1 Tessalonisense 5:23).
  • Verlossing. As jy in die ou tyd ‘n slaaf wou vrykoop, moes jy dit met goud of silwer doen. Ons was slawe van sonde. Jesus het sy lewe gegee om ons daarvan te verlos (1 Petrus 1:18-19, Markus 10:45).

 

Verheerlik God vir jou verlossing.  Moenie in jouself of in mense roem nie (v.31, 12).  Hoor weer die bekende woorde:  “So sê die HERE:  Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE.” (Jeremia 9:23-24).  “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” (Galasiërs 6:14).  Paulus sê dat God ons uitverkies en verlos het “tot lof van sy heerlikheid” (Efesiërs 1:6, 12, 14).  As die lof dan sýne is, moet ons nie mense vir die Baptise of Calviniste wen nie, maar vir Jesus.

 

Onthou God se gawe van verlossing.  Voor jy dit nie verstaan nie, sal jy dit nie waardeer nie.  Deur die kruis het Jesus jou sonde verwyder en is die oneindige God nie meer jou vyand nie, maar jou Vader en Vriend.  Deur Jesus het Hy jou aangeneem as ‘n erfgenaam van die wêreld en sy ewige Koninkryk.  In Hom het God vir jou ‘n ewige lewe van blydskap, liefde, skoonheid, heerlikheid, heiligheid gegee; ‘n lewe sonder siekte, sonde, dood.  Jesus is magtiger as ‘n stormagtige oseaan.  Sy heerlikheid is helderder as die middagson en mooier as ‘n pragtige sonsondergang.  Sy kalmte gee groter vrede as ‘n glashelder en spieëlgladde meer in die Switserse Alpe.  Hy is meer skrikwekkend as ‘n groot mannetjie leeu wat op jou afstorm.  Hy is groter as ‘n sterrehemel in die Sahara woestyn.  Hy en alles wat syne is, behoort aan jou (3:21-23)!  Vir ewig sal Hy sy genade en liefde mildelik oor jou uitstort.  Roem in Hom (v.31).  Iemand wat nalaat om verlossing as ‘n gawe van God te sien, sal homself of ander begin eer.  Sodra jy dit doen het jy ‘n resep vir verdeeldheid (v.12).

 

George wou aansluit by ‘n groep predikante wat glo dat God soewerein is in verlossing.  By die onderhoud wou hulle weet:  ‘Het jy enigiets tot jou redding bygedra?’  Hulle het verwag dat hy ‘nee’ sou sê.  Hulle was geskok toe hy ‘ja’ sê.  Darem het hy vinnig bygevoeg:  ‘Ek het die sonde bygedra wat vergewe moes word.’  Wil jy roem?  “Die wat roem, moet in die Here roem.” (v.31).

Verdeeldheid in die kerk

Division in church

Jy ken seker dié ou grap.  As twee Jode bymekaar kom stig hulle ‘n besigheid.  As twee Duitsers bymekaar kom stig hulle ‘n ingeneursmaatskappy.  As twee Afrikaners bymekaar kom stig een af.  Dis erg genoeg dat Afrikaners hierdie reputasie het.  Dis erger dat die Korintiërs dit gehad het (1 Korintiërs 10:1-17).

 

Die oproep tot eenheid (v.10)

Het jy al gehoor van die Van der Twis gesin?  Jy sal hulle nooit sonder mekaar sien nie, maar hulle is altyd besig om te baklei.  Uiterlik is hulle een gesin, maar innerlik is daar nie eenheid nie.  So was dit met die Korintiërs.

 

Om te keer dat daar verdere verdeeldheid is het Paulus hulle nie beveel nie, maar langs hulle kom staan en hulle gesmeek.[1]  Paulus noem hulle broers om te wys dat hy nie beter is as hulle nie (v.12-13) – hy is een van hulle.  Paulus vermaan hulle nie in sy eie naam nie, maar in die Naam van die Here Jesus Christus.  So wys hy weereens dat hy niks is nie; dat Jesus alleen belangrik is (v.12-13).  Paulus het Matteus 5:9 ter harte geneem:  “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”  Paulus vra die Korintiërs om eensgesind en nie verdeeld te wees nie.  Hulle moet verenig wees in dieselfde gesindheid en mening.  Hulle moet innerlik en nie net uiterlik een wees nie.  Die Grieks vir verenig [katartizo] word in Markus 1:19 gebruik van vissers wat hulle geskeurde nette regmaak.  Die Korintiërs moet die skeuringe in die kerk regmaak.

 

In ons gemeentes moet ons dieselfde gesindheid en morele mening hê.  Hoe sal ons dit regkry?  Soldate wat teen ‘n gemeenskaplike vyand veg het nie tyd om onder mekaar te baklei nie.  Laat ons daarom “in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie” (Filippense 1:27).  As God se kinders moet hulle dieselfde liefde hê (Filippense 2:2).  As almal lief is vir Jesus en sy Woord, bou dit die eenheid.  Om eensgesind te wees moet ons nederig wees.  Wys my ‘n kerk wat verdeeldheid is, en ek wys jou ‘n kerk waar mense hoogmoedig is.  Iemand kry nie wat hy wil hê nie en baklei daarom met ander (Jakobus 4:1-2).  As jy ander bo jouself stel sal daar nie verdeeldheid wees nie (Filippense 2:3-4).  Die leiers moet die voorbeeld hierin stel en ander in die gemeente dien.  Jesus het gesê:

 

“Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.  En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Matteus 20:25-28).  “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.  Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” (Johannes 13:13-14).

 

Die nederige gesindheid van Christus moet in ons wees (Filippense 2:5).  In Efesiërs 4:2-3 sê Paulus:  “[wandel] met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.”  God is een en daarom moet ons een wees:  “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” (Efesiërs 4:4-6).

 

As jy hoogmoedig is sal God jou weerstaan; as jy nederig is sal Hy aan jou genade gee (Jakobus 4:6).  Vra vergifnis vir jou hoogmoed.  Doen Bybelstudie en lees goeie boeke oor sonde en Jesus se kruisdood.  Dit sal jou nederig maak en vir jou wys dat jy niks is nie en God se oordeel verdien.  Alles wat jy het is genade.

 

When I survey the wondrous cross,

On which the Prince of Glory died,

My richest gain I count as loss,

And pour contempt on all my pride.

–Isaac Watts–

 

Iemand wat nederig is, is soos Jesus.  Hoogmoed maak jou soos die duiwel.

 

Die verbreking van eenheid (v.11-12)

My kinders het laas Vrydag ‘n spanbou liedjie by ‘n atletiek byeenkoms geleer:  ‘Sliding on a super tube… landing on cactus… we think your team needs more practice!… Sliding on a super tube… landing on daisy… we think your team is so lazy!’

 

Soos kinders by ‘n atletiek byeenkoms, was daar groepe in die Korintiër-kerk wat gedink het hulle is beter as die res.  Mense uit Chloë se huis het vir Paulus hiervan vertel.  Dit is skandelik dat die kerk se leiers nie vir hom gesê het nie, maar dit vir hom weggesteek het.  Jaloesie en partyskap het in die gemeente geheers (v.11, 3:3-4).  Die verskillende groepe het gesê:  “Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.” (v.12).  Dit terwyl Jesus vir sy dissipels gesê het:  “Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester:  Christus, en julle is almal broeders.  En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.  Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester:  Christus.” (Matteus 23:8-10).

 

Die Paulus-groep het hom seker gevolg omdat hy heilig, nederig, intelligent was, en eenvoudig gepreek het.  Die Apollos-groep het geroem omdat hulle leier welsprekend en opgelei was, en die Bybel goed geken het (Handelinge 18:24-28).  ‘Petrus het vir Jesus gesien toe hy op aarde was, en is gekies om die leier van die twaalf te wees,’ het die Cefas-groep gesê.[2]  Die Christus-groep het gesê:  ‘Ons behoort aan die groep wat geen menslike leier het nie.  Ons is trots daarop dat ons groep die beste is.’  Ek het onlangs ‘n blog gesien wat soos die Christus-groep is:  mense wat daarin roem dat hulle aan geen menslike groep behoort nie.

 

Wat is Paulus se punt in hierdie verse?  Moenie die eenheid verbreek nie.  Hoe doen ‘n mens dit?  Moenie met ander Christene stry of die kerk verlaat oor leerstellings wat nie sentraal is tot die evangelie nie.  Ek praat van dinge soos detail verskille oor die eindtyd.  Moet ook nie die kerk verlaat net omdat jy lus is vir ‘n verandering nie.  Mense wat van die kerk of Bybelstudie af wegbly, omdat hulle gunsteling prediker of leier nie aan die woord is nie, versteur die eenheid.

 

Indien iemand soos ‘n ongelowige in sonde volhard, moet ons nie gemeenskap met hom of haar hê nie.  So ‘n persoon moet uit die gemeente gesit word (5:9-13).  As iemand valsheid verkondig moet jy hom aanspreek en van sy sonde probeer terugdraai (2 Timoteus 2:24-26).  As hy nie luister nie, maar aanhou om tweedrag te saai, moet jy hom vermy:

 

  • “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.” (Romeine 16:17).
  • “Maar vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos. Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan.” (Titus 3:9-11).
  • Wat rondreisende vals leraars betref sê 2 Johannes 9-11: “Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.”

 

Moenie paaie skei met ‘n mede-gelowige oor klein verskille nie.  Maar as dit by leerstellings kom wat die evangelie direk raak is daar nie genade nie.  Ons praat hier van mense wat byvoorbeeld sê dat God nie ewig of Almagtig is nie, dat Jesus nie God is nie, dat Jesus nie vir ons sondes gesterf het nie, dat Jesus nie liggaamlik uit die dood uit opgestaan het nie, dat die Bybel nie die Woord van God is nie, dat heiligheid nie belangrik is nie, dat die hemel en die hel nie regtig bestaan nie, dat Jesus nie weer gaan terugkeer nie.  Indien die gemeente waaraan jy behoort aan hierdie leerstellings vashou, moet jy met die leiers praat.  Indien dit lyk of hulle nie gaan verander nie, moet jy die gemeente verlaat.  In so ‘n geval is jy nie besig om die eenheid van die liggaam te verbreek nie, maar skei jy jou af van ongelowiges.

 

Hoekom moet jy alles in jou vermoeë doen om nie die eenheid van die kerk te verbreek nie?  Paulus antwoord:  “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.” (3:16-17).  Jesus het gesê:  “wie nie teen ons is nie, is vir ons.” (Lukas 9:50).  Iemand wat verdeeldheid bring tree op soos ‘n ongelowige (Galasiërs 5:20).

 

Die evangelie van eenheid (v.13-17)

‘n Paar jaar gelede het Iain Murray by ‘n konferensie gepreek.  Die gehoor het applous gegee toe hy na die kansel toe opstap.  Hy het die gehoor dadelik stil gemaak, omdat die eer Jesus alleen toekom.  So het Paulus gedoen in die verse wat volg.

 

Paulus het die Korintiërs herinner dat Christus nie verdeeld is nie.  Hulle was alreeds een in die Here.  Dit was nie nodig dat hulle die eenheid moes skep nie – hulle moes dit net bewaar (Efesiërs 4:3).  Jesus het hulle sonde op Homself geneem aan die kruis.  Hulle moes Hóm aanbid en nie vir Paulus nie.  Hulle is nie in Paulus se naam gedoop nie, maar in Jesus se Naam (Handelinge 2:38, Matteus 28:19).  Hulle was dus met Hom verenig en nie met Paulus nie.  Om dan ‘n menslike leier na te volg was sinneloos.  Toe Martin Luther hoor dat ‘n Protestantse groep na hom vernoem is, het hy gesê:  ‘What is Luther?  The teaching is not mine.  Nor was I crucified for anyone… How did I, poor stinking bag of maggots that I am, come to the point where people call the children of Christ by my evil name?’[3]

 

As Paulus sy eie kultus wou begin het, sou hy mense in sy naam gedoop het.  Maar hy het nie.  In sy bediening het hy minder as ‘n halfdosyn mense gedoop.  Onder hulle was Crispus, Gajus, en die huisgesin van Stefanas (16:15, 17, Handelinge 2:41, 18:7-8, 16:30-34, Romeine 16:23).  By ‘n vergadering het ek gesê dat ek na bekerings smag, maar niks sien nie.  Agter my het ‘n predikant opgestaan en geroem dat hy in een jaar 400 mense na die Here toe gelei het.  Paulus was nie so nie.  Hy het nie rekord gehou van hoeveel mense hy gedoop het, sodat hy daarin kon roem nie.  Sy fokus was nie om suksesvol te wees nie, maar getrou.

 

Ja, Jesus het vir die kerk gesê om dissipels te doop (Matteus 28:19).  Maar dit was nie Paulus se fokus nie.  My vriend is ‘n sendeling.  ‘n Sendeling wat in die omgewing werk het vir hom gesê dat die doop deel is van die evangelie, en dat iemand wat nie gedoop is nie, nie gered kan word nie.  Dis onsin.  Die doop is ‘n uitdrukking van die evangelie en nie ‘n deel daarvan nie.  Paulus sê so in v.17:  “Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig”.

 

Hoe het Paulus die evangelie verkondig?  “nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.” (v.17).  Paulus wou nie so fantasties preek, dat hy die aandag op homself gevestig het nie (2:1, 4, 13, 2 Korintiërs 10:10, 11:6).  Die aandag moes op die evangelie wees, omdat dít die krag van God is om sondaars te red.

 

Bevorder evangelie eenheid.  Alvorens jy dit kan doen moet jy weet wat dit is.  Evangelie eenheid is die eenheid wat ons in die evangelie het; die eenheid wat Jesus deur sy kruisdood bewerk het (Efesiërs 2:16-18, Johannes 17:21).  Is dit dan moontlik om een te wees met mense wat die evangelie verwerp?  Die Skrif sê:

 

“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?  En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?  Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?  Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het:  Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” (2 Korintiërs 6:14-16).

 

Ons is nie broers met Moslems, Hindus, Jehova’s Getuies, en ander wat die Bybelse evangelie verwerp nie.  Ons moenie intergeloof samekomste of bidure hou soos wat hulle by Nelson Mandela se gedenkdiens gedoen het nie.  Laat ons eerder ons gawes gebruik om die eenheid in die liggaam van Christus te bevorder (Efesiërs 4:11-13).  In die kerk moet die evangelie en leerstellings wat daarmee verband hou die basis vir ons eenheid wees.  Wees ernstig oor ander leerstellings, maar moenie dat dit die basis vir ons eenheid vorm nie.  Ons moet byvoorbeeld nie net een wees met ander Baptiste nie.

 

Waarom is evangelie eenheid so belangrik?  Om mense van ander godsdienste as broers te omhels, skep verwarring oor die evangelie.  Ons eenheid moet met ander Christene wees.  Dan sal die wêreld weet ons is sy dissipels.  “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Johannes 13:34-35).

 

Iemand het ‘n tyd gelede vir my vertel van ‘n predikant wat ek ken:  ‘Hy vat dit baie swaar en huil as mense uit die gemeente bedank.’  Ek vind dit ook sleg as mense bedank, maar ek het nie verstaan hoekom dit vir hom só erg is nie.  Ek dink ek begin nou verstaan hoekom.

[1] Die Griekse word vir vermaan [parakaleo] beteken ‘om tot langs jou te roep’.

[2] Cefas is ‘n ander naam vir Petrus (sien Johannes 1:43).

[3] David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.49

Ons het mekaar nodig

Hands

Ons samelewing is individualisties.  Ons dink maklik ons het mekaar nie nodig nie:  ‘Ek kan myself help.’  Elkeen leef agter sy elektriese heining.  Ons raak nie betrokke in mekaar se lewens nie.  As iemand om hulp roep sê ons ewe vroom:  ‘Ek wil nie betrokke raak in dinge wat my nie aangaan nie.’  Christene moet stroom-op swem en nie soos die wêreld wees nie.  Ons moet betrokke wees in mekaar se lewens.  Dit is die les in Handelinge 11:19-12:25.

 

Jerusalem help Antiochië (11:19-26)

Toe Saulus in 8:1-3 die kerk vervolg het, het die gelowiges in Jerusalem uitmekaar gespat.  Hulle het tot in Fenicië (moderne Lebanon) en Siprus (‘n eiland suid van Turkye en wes van Sirië) gepreek.  Hulle het in Antiochië die evangelie aan Jode verkondig (v.19).  Antiochië was die derde grootste stad van die antieke wêreld (naas Rome en Alexandrië).  Dit was op die grens van moderne Sirië en Turkye, ‘n paar kilometer van die noord-kus af.

 

‘n Paar Christene uit Siprus en Libië het nie net aan Jode die evangelie verkondig nie, maar ook aan die Helleniste.  Laasgenoemde kan verwys na Griekssprekende Jode of na Griekse nie-Jode.  God se hand was met die evangeliste, sodat baie mense tot bekering gekom het (v.20-21).  Toe die kerk in Jerusalem dit hoor het hulle vir Barnabas Antiochië toe gestuur (v.22).  Barnabas se naam beteken ‘seun van vertroosting’ (4:36).  Omdat hy van Siprus was en graag ander bemoedig het, was hy die regte man vir die taak (v.20, 4:36).  Barnabas sou ongetwyfeld die apostels se lering aan hulle verkondig het (2:42).  Hy het God se genade in hulle lewens gesien:  die vrug van bekering, die vrug van die Gees, en geestelike gawes (v.23).  Hy het hulle aangemoedig om in ‘n bose wêreld aan die Here vas te hou, want hulle sou waarskynlik nou vervolg word (v.23).  Hy was, soos Stefanus, vol van geloof en die Heilige Gees (cf. 6:5).  Gevolglik het die Here baie mense tot bekering gebring toe hy gepreek het (v.24).  Met al die bekerings kon Barnabas nie voor bly nie.  Hy het ekstra hande nodig gehad om die nuwe bekeerlinge te leer.  Hy het vir Saulus in Tarsus gaan soek (v.25).  Hy het geweet dat Saulus ‘n apostel en ware gelowige was, en dat hy die evangelie kragtig verkondig het (9:27-30).  Vir ‘n jaar lank het hy en Saulus die kerk in Antiochië in die waarheid onderrig.  Soos wat die Christene gegroei het, het hulle heilige lewens aan die wêreld sigbaar geword.  Die wêreld het ‘n skeldnaam vir hulle uitgedink:  Christene (v.26).  Die naam beteken ‘volgeling van Christus’.  As die wêreld jou só uitskeld moet jy die Here dank en eer.  1 Petrus 4:16 sê:  “Maar wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig.”

 

God sal dikwels ‘n nood in iemand skep, sodat die res ‘n geleentheid kan hê om te dien.

 

  • God bring mense tot bekering. Hy wil hê ons moet hulle die Woord leer.
  • God voeg baie kinders by. Hy wil hê dat die kerk hierdie kinders die Bybel moet leer.
  • God laat ‘n finansiële behoefte ontstaan. Hy wil hê die gemeente moet inspring en help (v.29).
  • God bring siekte of lyding in ‘n Christen se lewe (12:5). Hy wil hê jy moet die persoon ondersteun en bemoedig. Paulus praat van God “wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.” (2 Korintiërs 1:4).
  • God laat toe dat ‘n Christen aanhou met sy sonde. Hy wil hê jy moet die persoon reghelp. “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” (Galasiërs 6:1-2).
  • God los iemand vir ‘n rukkie in verwarring. Hy wil hê jy moet met raad help, en nie geïrriteerd raak nie.
  • God bring iemand in ‘n eensame situasie. Hy wil hê jy moet die persoon besoek en vriende maak.
  • God laat iemand sonder vervoer. Hy wil hê jy moet die persoon oplaai vir kerk. Hy wil hê jy moet bereid wees om vir die persoon winkel toe te ry.

 

Dit is nie die predikant se werk om al hierdie dinge te doen nie.  Die predikant is maar een deel van die liggaam.  Elke lid is nodig om effektief te kan funksioneer:  “sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra.  En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.  Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.” (1 Korintiërs 12:25-27).

 

Watse geleenthede het die Here oor jou pad gestuur?  Die Here het die goeie werke vir jou beplan en dit op jou pad gesit (Efesiërs 2:10).  Hy wil hê jy moet dit raaksien en doen.  Moenie mense as ‘n onderbreking sien nie, maar as ‘n geleentheid om goed te doen.  Moenie kerk toe kom en kla omdat jy niks kry nie.  Vra eerder hoe jy kan gee; hoe jy kan dien.  Moet ook nie te trots wees om hulp te aanvaar nie.  As jy dít doen beroof jy ander van die vreugde en seën wat húlle kan kry deur te dien.

 

Antiochië help Jerusalem (11:27-12:25)

Profete het van Jerusalem af Antiochië toe gekom.  Agabus was een van hulle.  Hy het ‘n wêreldwye droogte voorspel.  Dit het in 41 n.C. begin en in vier golwe gekom in die tyd toe Claudius keiser was (v.27-28).  Die Christene in Antiochië was nederig.  Hulle het nie net aan hulleself gedink nie, maar dadelik ‘n plan gemaak om die arm Christene in Jerusalem te ondersteun.  Hulle bydraes het nie volgens die Ou Testamentiese tiende wet gewerk nie.  Elkeen het volgens sy vermoë bygedra (v.29).  Hulle het die bydrae (kos, geld of beide) saam met Saulus en Barnabas Jerusalem toe gestuur (v.30).

 

In hierdie tyd was Herodes Agrippa I koning van Israel.  Hy was die kleinseun van Herodes die Grote wat regeer het toe Jesus gebore is.  Anders as die ander Herodese, het Agrippa I ‘n goeie verhouding met die Jode gehad.  Hy het die wet en Joodse Feeste onderhou.  Tydens een huttefees het die Joodse leiers Deuteronomium 17:15 gelees:  “dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.”  Herodes het in trane uitgebars, omdat hy ‘n uitlander was – ‘n Edomiet.  Die Jode het hom getroos:  ‘Moenie huil nie, jy is ons broer.’

 

Toe Herodes sien dat die Jode die Christene haat, het hy Jakobus met ‘n swaard laat onthoof.  Jakobus was vurig, ‘n seun van donderweer (Markus 3:17).  Waarskynlik was dít hoekom hy die eerste apostel-martelaar was.  Herodes se optrede het die Jode tevrede gestel.  Dit het hom aangespoor om nóg ‘n vurige apostel laat arresteer:  Petrus.  Hy het hom in die tronk gehou om hom ná die Paasfees te laat onthoof (v.1-4).  Hy het vier wagte van vier soldate elk aangestel om vir Petrus te bewaak.  Twee het langs hom gesit en twee het wag gestaan by die tronksel se deur (v.4, 6).  Daar was vier skofte deur die nag (Markus 13:35).  Elke groep van vier soldate moes vir drie ure waghou.  Terwyl Petrus in die tronk was het die kerk vir hom gebid (v.5).  Het hulle gebid dat God hom moes bevry?  Of dalk net dat hy dapper sou wees en nie die Here sou verloën nie?  Ons weet nie.

 

Die aand voor sy teregstelling het Petrus rustig tussen die soldate geslaap.  Die Here het verseker die kerk se gebede beantwoord.  ‘n Engel se helder lig het in die sel geskyn, maar kon nie die slapende apostel wakker maak nie.  Die engel moes hom op die sy slaan om hom wakker te kry.  Die kettings het afgeval.  Die engel het hom beveel om aan te trek en het hom verby die wagte gelei.  As die soldate se oë oop was, het die engel hulle verblind.  Hulle het niks gesien nie.  Uiteindelik het die laaste ysterhek vanself voor hulle oopgegaan.  Hulle het een straat verder geloop.  Skielik het die engel verdwyn.  Petrus het op ‘n stadium gedink hy droom net, maar nou het hy geweet dat dit regtig was:  die Here het hom uit Herodes se mag bevry (v.6-11).

 

Hy het na Maria en Johannes Markus se huis toe gegaan en aan die deur geklop.  ‘n Diensmeisie genaamd Rhode het gaan oopmaak, maar toe sy Petrus se stem hoor het sy teruggehardloop om vir die gelowiges te sê.  Hulle het gesê sy is mal.  ‘Dis sy engel!’ het hulle gesê (Matteus 18:10).  Indien hulle wel gebid het dat hy bevry moes word, is hierdie ‘n tipiese voorbeeld van hoe kleingelowig ons is:  ons bidvir iets, maar is verbaas as die antwoord kom (v.12-15).  Uiteindelik het hulle self die deur oopgemaak en vir Petrus gesien.  Hulle was so opgewonde dat Petrus met sy hand vir hulle moes wys om stil te bly (v.16-17).  Hy het vir hulle gesê om vir Jakobus en die ander te vertel.  Die Jakobus van v.17 is natuurlik ‘n ander Jakobus as die een in v.2.  Die een in v.2 is Johannes se broer.  Die een in v.17 is Jesus se halfbroer.  Hy het die Jakobus-brief geskryf en die leier van die Jerusalem-kerk geword (hfst.15, Matteus 13:55, Jakobus 1:1).  Petrus het na ‘n ander plek toe gegaan.  Behalwe vir ‘n enkele verskyning in hfst.15, lees ons nie weer van Petrus in Handelinge nie.

 

Die volgende oggend het die soldate nie geweet wat van Petrus geword het nie.  Hulle was geskud en het geweet hoe dit werk:  as ‘n gevangene ontsnap, kry die wagte die straf wat hy sou kry.  Herodes het vir Petrus laat soek.  Toe hy hom nie kry nie het hy die soldate laat doodmaak (v.18-19).  Herodes het na sy hoofkwartiere in Sesarea vertrek (v.19).  Een van die redes vir sy besoek was omdat keiser Claudius verjaar het.  Volgens Josefus is dit waarna die ‘bepaalde dag’ in v.21 verwys.  Herodes was kwaad vir die inwoners van die kusstede, Tirus en Sidon.  Hoekom, weet ons nie.  Hierdie stede het hulle koring van Herodes se land af gekry.  Hulle wou nie die toelaag verloor nie, en het vir Blastus (die hofdienaar) gevra om ‘n goeie woordjie by Herodes vir hulle in te sit.  Toe Herodes by Claudius se partytjie opstaan om sy toespraak te maak, het sy silwergeweefte mantel in die son weerkaats (volgens Josefus).  Die mense het hom gevlei, omdat hulle nie hulle subsidie wou verloor nie:  “‘n Stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie!” (v.22).  Herodes was nie soos Petrus nie, maar het die lofprysing aanvaar (v.20-22).  Toe Cornelius vir Petrus wou aanbid, het hy dadelik vir Cornelius gekeer en gesê dat hy net ‘n mens is (10:25-26).  Maar Herodes het die lof aanvaar, en daarom het ‘n engel hom getref.  Hy het, volgens Josefus, vir vyf dae gely en ‘n vreeslike dood gesterf.  Lukas sê dat wurms hom van binne af verteer het.  Gewoonlik sterf ‘n mens en word hy dán deur wurms geëet.  Herodes is deur wurms geëet en het daarná gesterf (v.23).

 

John Stott sê oor Handelinge 12:  ‘The chapter opens with James dead, Peter in prison, and Herod triumphing; it closes with Herod dead, Peter free, and the Word of God triumphing.’ (The Message of Acts, p.213).  Lukas skryf:  “Maar die woord van God het gegroei en toegeneem.” (v.24).  Herodes het probeer om die Here se werk te keer, maar Jesus kan nie gekeer word nie; Hy sal sy kerk bou (Matteus 16:18).

 

Barnabas en Saulus het hulle taak voltooi en vir Johannes Markus saamgevat Atiochië toe (v.25).  Markus was Barnabas se neef (Kolossense 4:10).  Hy het was Petrus se geestelike seun en het waarskynlik onder sy prediking tot bekering gekom (1 Petrus 5:13).  Hy het die boek Markus geskryf.  Aan die einde van hoofstuk 15 het Paulus en Barnabas paaie geskei oor hom.  Paulus het hom egter weer gebruik, omdat hy geestelik gegroei het en bruikbaar geword het vir geestelike diens (2 Timoteus 4:11).

 

Saam kan ons meer doen as op ons eie.  Dit is goed as ‘n gemeente saam met ander gemeentes werk.  Ons gemeente is te klein om alleen ‘n kerk plant, sendelinge uit te stuur, of predikante op te lei.  Maar as ons saam met ander kerke werk kan ons dit regkry.  Hoekom moet ons alleen probeer om goeie Afrikaanse Sondagskool materiaal of Christelike literatuur te skryf?  Doen dit in samewerking met ander gemeentes.  Ons kan ook saam groot dinge doen deur gebed (v.5).  Jy beroof ander mense van seën as jy nie vir hulle bid nie.  Bid gereeld vir en saam met jou medegelowiges (v.5).  Moenie die bidure afskeep nie.  En moenie sê:  ‘Ek is oud en nutteloos.  Ek het nie meer krag om te dien nie.  Al wat ek kan doen is bid.’  AL wat jy kan doen!  Gebed is seker die belangrikste ding wat jy kan doen.  Die gemeente het jou gebede nodig.

 

Hierdie lied van Casting Crowns som op dat ons mekaar nodig het.

 

Did you hear of the city on the hill

Said one old man to the other

It once shined bright, and it would be shining still

But they all started turning on each other

 

You see the poets thought the dancers were shallow

And the soldiers thought the poets were weak

And the elders saw the young ones as foolish

And the rich man never heard the poor man speak

 

And one by one, they ran away

With their made up minds to leave it all behind

And the light began to fade

In the City on the Hill, the City on the Hill

 

Each one thought that they knew better

But they were different by design

Instead of standing strong together

They let their differences divide…

 

…But it was the rhythm of the dancers

That gave the poets life

It was the spirit of the poets

That gave the soldiers strength to fight

It was fire of the young ones

It was the wisdom of the old

It was the story of the poor man

That needed to be told…

 

…(Come home)

And the Father’s calling still

(Come home)

To the city on the hill

(Come home)

Die kerk: wie is ingesluit?

Black and white hand

Operation World is ‘n boek wat onder andere syfers van verskillende Christelike kerke gee.  By die syfers sluit Patrick Johnstone, die outeur, kultusse soos die Jehova’s Getuies, Sewendedag Adventiste, Mormone, en Rooms-Katolieke in.  Enige kultus sê dat net mense wat by húlle aansluit, hemel toe gaan.  Johnstone sluit dus kultusse in, terwyl kultusse die res uitsluit.  Maar wat die Skrif:  wie is deel van die kerk; wie is ingesluit?  Handelinge 10:1-11:18 sal vir ons sê.

 

Die visioen (10:1-33)

Sesarea was op die kus, 112 km noord-wes van Jerusalem.  Cornelius was ‘n offisier van die Italiaanse leërafdeling, kaptein oor 100 soldate.  Hy was vroom en opreg.  Hy het nie-amptelik die Joodse geloof aangeneem.  Hy was dus nie ‘n proseliet nie, maar ‘n godvresende.  Hy het baie gebid en veral die armes onder die Jode gehelp (v.1-3, 22).  Een middag om 15:00, tydens die Joodse gebedstyd, het ‘n engel aan hom verskyn.  Hy was vreesbevange, maar die engel het hom vertroos:  ‘Jou gebede en sorg vir die armes het as ‘n gedenkoffer voor die Here opgestyg. [v.3-4, Levitikus 2:2].  Stuur iemand Joppe toe om vir Simon Petrus te haal.  Hy bly teen die kus by Simon die leerlooier se huis.  Hy sal vir jou sê hoe om gered te word.’  Cornelius was gehoorsaam en het twee slawe en ‘n getroue soldaat gestuur.  Vroeg die volgende oggend het hulle die 48 km reis na die suidkus toe aangedurf (v.5-8).  Teen 12:00 was hulle naby Joppe.  Petrus was op die huis se plat dak, besig om te bid.  Hy het geruik hoe die bediendes kos kook.  Sy mond het gewater.  Skielik het daar ‘n laken vol van rein en onrein diere uit die hemel neergesak (v.9-12).  Jesus het vir Petrus gesê om te slag en te eet.  Hy het kapsie gemaak:  ‘Ek kan nie Levitikus 11 oortree nie Here.’  Maar reeds in Markus 7:19 het Jesus alle kos rein verklaar.  Om sy punt te beklemtoon het Jesus sy opdrag aan Petrus drie keer herhaal.  Die laken is teruggeneem hemel toe (v.13-16).

 

Petrus het gewonder wat die visioen tog kon beteken.  Die Heilige Gees het vir hom gesê dat daar drie mans by die hek is.  Hy moes nie huiwer om saam met hierdie heidene te gaan nie.  Petrus het teen sy Joodse tradisie ingegaan en die heidene ingenooi! (v.17-23).  Cornelius het solank sy vriende en familie bymekaar gemaak en vir Petrus gewag.  Toe Petrus daar aankom het Cornelius by sy voete neergeval om hom te aanbid.  Petrus het hom reggehelp en gesê dat geen skepsel aanbid moet word nie.  God alleen is waardig om aanbid te word.  Petrus het by die ‘onrein’ heiden se huis ingegaan.  Met woord en daad het hy erken dat die heidene rein is (v.24-26).  John Stott sê:  ‘Peter refused both to be treated by Cornelius as if he were a god, and to treat Cornelius as if he were a dog.’ (The Message of Acts, p.189).  Cornelius het dadelik sy visioen met Petrus gedeel (v.30-33).

 

Soek jy God opreg?  Jy het al verskillende dinge probeer om ‘n regte stand voor God te hê.  Jy vas, bid, is gedoop, gebruik nagmaal, het by ‘n kerk aangesluit, doen goed aan ander, lees jou Bybel, lees net geestelike boeke, luister geestelike musiek, probeer ophou met jou sonde.  Jy is soos Cornelius en George Whitefield.  Hulle was opreg in hul soeke na God.  Maar hulle was ongered.  Whitefield het alles probeer om die Here te behaag.  Hy het growwe klere gedra en droë brood geëet.  Hy het gedurig gevas en in die woud gaan bid.  Hy het in die koue uitgegaan om homself te verloën en frost bite gekry.  Net die evangelie kan jou in ‘n regte stand voor God bring.  Eers dán kan jy deel wees van die kerk; eers dán is jy ingesluit.

 

Die evangelie (10:34-48)

God trek niemand voor op uiterlike gronde nie.  Die Jode word nie voorgetrek omdat hulle besny is nie.  God kyk na die hart (v.34-35).  Lukas sê nie in v.35 dat goeie werke ‘n mens red nie.  As dit so was dan was dit nie nodig dat Petrus die evangelie met Cornelius moes deel nie.

 

Petrus het ingespring:  ‘Jesus het ‘n boodskap van vrede kom preek – vrede tussen God en mens, asook tussen Jode en heidene [cf. Efesiërs 2:11-22].  By sy doop is Jesus met die Heilige Gees gesalf.  Die ‘salwing’ bewys dat Hy die Messias is:  Messias beteken immers ‘gesalfde’ [cf. Jesaja 61].  Jesus het krag ontvang om siekes te genees en duiwels uit te dryf.  Oral waar Hy gegaan het, het Hy goed gedoen.  Die apostels was ooggetuies van sy wonderwerke.  Jesus het ‘n vervloekte dood gesterf aan ‘n kruis [cf. Deuteronomium 21:22-23].  Op die derde dag na sy dood het God Hom uit die graf opgewek.  Weereens was die apostels ooggetuies van sy opstanding.  Die feit dat hulle ná sy opstanding saam met hom geëet en gedrink het bewys sy liggaamlike opstanding.  Jesus het die apostels gestuur om ‘n evangelie van bekering en vergifnis te preek.  Daar is ‘n oordeelsdag wat kom, maar God is bereid om elkeen wat glo te vergewe –ook heidene.  Die Ou Testament profete en Nuwe Testament apostels getuig almal van hierdie vergifnis.’ (v.36-43).

 

Terwyl die ‘onrein’ heidene na Petrus se boodskap luister, het die Heilige Gees soos reën op hulle geval.  Hy het hulle instaat gestel om ander lande se tale te praat.  Die Jode kon hulle oë en ore nie glo nie.  Die heidene se ondervinding was soortgelyk aan die Jode s’n in hoofstuk 2 (v.44-46).  Petrus het beveel dat die nuwe dissipels gedoop moes word.  Die doop van dissipels was immers deel van Jesus se laaste opdrag(Matteus 28:19).  Petrus het vir ‘n tydjie gebly om vir hulle die Bybel te leer (v.47-48).

 

Wat gebeur as iemand doodgaan, as hy God opreg gesoek het maar nooit die evangelie gehoor het nie?  Mense soos C.S. Lewis, Billy Graham en William P. Young (die outeur van The Shack) glo dat so iemand hemel toe gaan.  Maar hoe kan ‘n opregte Moslem of Hindu hemel toe gaan, as Johannes 14:6 sê dat niemand na die Vader toe kom behalwe deur Jesus nie?  Niemand kan sonder die evangelie gered word nie (Romeine 10:13-17).  ‘Maar wat van mense wat nie van God geweet het nie?’ vra iemand.  Almal weet God bestaan:  die skepping en hulle gewete sê dit vir hulle (Romeine 1:18-21, 2:14-15).  As iemand regtig die waarheid wil ken, sal die Here ‘n ‘Petrus’na hulle toe stuur.  Net as hulle hierdie evangelie glo is hulle ingesluit.

 

Die verslag (11:1-18)

Toe Petrus terugkom in Jerusalem het die Jode hom gekritiseer, omdat hy by ‘onrein’ heidene geëet het (v.1-3).  Petrus het vier argumente aangevoer om sy saak te verdedig:

 

[1] Jesus het in ‘n visioen vir hom gewys om nie te sê dat dit wat God rein gemaak het, onrein is nie (v.4-10).

 

[2] Die Heilige Gees het vir hom gesê om saam met die heiden te gaan (v.11-12).

 

[3] Die engel het vir Corneluis gesê dat Petrus soontoe moes kom (v.13-14).

 

[4] Toe die heidene die evangelie glo het hulle die Heilige Gees ontvang (v.15-17).

 

Skielik het die Jode se kritiek in lofprysing verander.  Hulle het die Here geloof, omdat Hy bekering en die ewige lewe aan die heidene geskenk het (v.18, cf. 5:31).

 

Ons mag nie enige Christen op grond van uiterlike kriteria by die kerk uitsluit nie.  Sommige denominasies en gemeentes weier om swart Christene in hulle midde te verwelkom.  ‘n Predikant wat ek ken het gesê:  ‘Ek sal nie ‘n k#&$!@r in my kerk toelaat nie!’  Wat sal jy doen as ‘n Zulu Christen wat goed Afrikaans kan praat, by ons/julle gemeente wil aansluit?

 

  • Sal jy vra dat daar eers ‘n vergadering gehou moet word?
  • Sal jy wil hê dat daar ‘n paar ekstra vereistes vir lidmaatskap moet wees?
  • Sal jy sê hy of sy kan ‘n lidmaat word, maar nie ‘n ouderling of diaken nie: hulle mag nie met die geld werk, kos aan die armes versprei, of die vrouebediening lei nie?
  • Sal jy en jou kinders wegbly as hy preek of ‘n Bybelstudie lei; as sy Sondagskool gee?
  • Sy jy ophou om die nagmaalbeker te gebruik as hy daaruit drink?
  • Sy jy hom as lidmaat aanvaar, maar apart sit by gemeente etes; apart staan by tee?
  • Sal jy verleë voel as hy jou in die hospitaal kom besoek?
  • Sal jy uiteindelik die kerk verlaat en jou kinders uit die Sondagskool neem as die gemeente 70% swart en 30% wit is?
  • Laat sulke vrae jou ongemaklik voel?
  • Sê jy in jou gedagtes: ‘Ja, maar…’?

 

Jy moet jou van jou sonde bekeer.  Jy kan nie mense uitsluit as God hulle insluit, regverdig, aanneem, en vergewe nie:  “As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?” (v.17).

 

Is jy moeg vir die kwota sisteem in ons land?  Hierdie week het die koerant opskrif gesê dat ons krieketspan ten minste vyf ‘gekleurde’ spelers moet hê.  Ons sal seker saamstem dat die beste spelers in die span moet wees – al is almal swart.  Laat ons nie hierdie euwel, die kwota sisteem, in die kerk inbring nie.  Moenie mense wat Bybels diskwalifiseer insluit nie.  En moenie mense wat Bybels kwalifiseer uitsluit nie.