Hoe moet ons vir Suid-Afrika bid?

Heart hands South African flag

Almal praat oor Saterdag 22 April 2017 se gebedsdag in Bloemfontein. Na my mening is die punt nie of jy teologies op dieselfde bladsy is as Angus Buchan nie, maar dat hierdie ‘n uitstekende geleentheid vir die evangelie is.

 

Ek glo dat elke Christen hierdie golf moet ry en vir die wêreld moet vertel dat Jesus gekom het om die probleme in ons land en wêreld op te los. Volgens 1 Tm.2:1-8 is die primêre probleem nie die regering of die ekonomie nie, en is die oplossing nie die Verenigde Nasies, Amerika of die DA nie.  Die probleem is sonde en die oplossing is Jesus wat deur die evangelie sy kinders se gebede beantwoord – so eenvoudig soos dit.

 

Bid vir alle mense (v.1-2)

Ek het jou al in die verlede vertel van ‘n predikant wat in ‘n erediens vir die huidige regering gebid het. Hiervoor het sy gemeente hom afgedank.  Ek het self het al gehoor hoe mense sê dat hulle nie vir Jacob Zuma kan bid nie.

 

Mense wat dít sê vergeet dat hulle voor hulle bekering net so sleg was soos hy (Tit.3:3). Verder maak hulle ook of 1 Tm.2:1-2 nie op hulle van toepassing is nie.  Kom ons bestudeer die verse om te sien wat die Here van ons vereis.

 

1 Timoteus is geskryf om vir ons te wys hoe die gemeente of huishouding van God ordelik moet funksioneer (3:15). Van eerste belang is dat ons ‘n biddende gemeente moet wees (v.1).  Gebed is die kragtige diesel enjin wat elke ander bediening in die gemeente moet dryf.  Volgens Paulus is dit nie opsioneel nie, en daarom vermaan hy Timoteus om dit te doen (v.1).

 

Om reg te bid moes die gelowiges God vir hulle behoeftes gesmeek het (v.1). Deur gebed moes hulle gedurig met Hom gepraat het (v.1).  Hulle moes ingetree het vir ander (v.1).  En laastens moes hulle God vir sy goedheid en sy antwoorde op hulle gebede gedank het (v.1, Ps.50:23).

 

Op hierdie vier maniere moes hulle vir alle mense gebid het (v.1). Paulus verwys nie hier na elke individu nie, maar na alle klasse en nasies (v.2, 7).  Dit sou konings en hoë amptenare soos keiser Nero ingesluit het (v.2, Esr.6:10).  Volgens Jesus se opdrag in Lk.6:27-28 moes die gemeente vir hulle vervolgers gebid het.

 

Hulle moes gebid het dat God die owerhede se harte sou verander, sodat hulle nie meer die kerk vervolg het nie, maar vir hulle vryheid gegee het (v.2, Sp.21:1, Esr.6:22, 7:27). So kon hulle sonder vrees vir vervolging en met toewyding hulle Christenskap uitgeleef het (v.2).  Soos die res van die samelewing sou ook húlle waardig kon lewe, en nie soos misdadigers behandel word nie (v.2).  Selfs die ongelowiges sou die vrugte van die gelowiges se gebede gepluk het, naamlik ‘n stil en rustige lewe (v.2, Jer.29:7).

 

Dit is nie moeilik om te sien hoe ons hierdie verse moet toepas nie.

 

[1] Om as gemeente saam te bid moet vir ons ‘n prioriteit wees soos wat dit vir die vroeë kerk was (v.1, Hd.1:14, 2:42, 4:24, 31, 12:5, 13:3). Vyf tot agt mense by ‘n biduur (uit ‘n gemeente van 75 lidmate) wys vir my dat gebed by ons nie ‘n prioriteit is nie, en dat ons dink ons het nie die Here nodig nie.

 

[2] Ons is geneig om vir onsself te bid en van ander te vergeet. Maar volgens v.1-2 moet ons vir ander bid en vir hulle intree.  Deur jou gebede kan jy mense bevoordeel, soos wat jy ook (al is jy nie eers bewus daarvan nie) deur ander se gebede sekere voorregte geniet.  Wat Thomas Brooks van persoonlike gebed gesê het, geld ook vir gesamentlike gebed:  ‘let not others suffer by your neglect of private prayer!’[1]

 

Laat ons dan leer om in ons stiltetye, bidure en eredienste vir mekaar, ons geestelike leiers, sendelinge, ons familie en vriende, ons kollegas, ongelowiges, ons vyande, die polisie, die stadsraad en die regering te bid (v.1-2).

 

[3] Maar ons gebede moenie net uit versoeke bestaan nie; ons moet ook die Here dank (v.1, Ps.50:23, Ef.5:20, Fil.4:6, 1 Ts.5:18). Paulus bedoel nie dat ons Hom vir ‘n slegte regering moet dank nie, maar dat ons dankbaar moet wees dat daar nog ‘n mate van wet en orde is.  In Suid-Afrika kan ons ook dankbaar wees vir lopende en warm water, paaie en rioolstelsels, godsdiensvryheid, elektrisiteit en meer.

 

[4] Petisies, optogte en stakings gaan nie Suid-Afrika se probleme oplos nie – gebed gaan (v.1-2). As ons geregtigheid wil hê moet ons nie na die regering toe gaan nie, maar na die Here toe:  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die HERE.” (Sp.29:26).

 

Bid vir bekering (v.3-8)

‘n Paar weke gelede het iemand vir my ‘n Whatsapp gestuur en gevra dat ek saam met hom vir Julius Malema se bekering moet bid. Ek wonder of ons regtig glo dat hy tot bekering kan kom?  Glo jy dat Jacob Zuma tot bekering kan kom?

 

As jy in die Ou Testament gelewe het sou dit seker moeilik gewees het om te glo dat konings soos Nebukadnesar en Manasse tot bekering kon kom. Maar hulle het (2 Kron.33, Dn.4).  En uit verse soos 1 Tm.2:1-8 en Op.21:24 weet ons dat daar nóg konings en owerhede is wat tot bekering sal kom.

 

Om so vir die regering en vir alle mense te bid is goed in God se oë (v.1-3). Die vrug van hierdie gebede, naamlik dat mense gered word en Hom aanbid, is ook vir Hom aanneemlik (v.2-4).  Hy is ‘n Verlosser wat wil hê dat alle mense gered moet word en tot ‘n persoonlike kennis van die waarheid moet kom (v.3-4, Jh.3:16, 2 Pt.3:9).

 

‘Maar hoekom kom almal dan nie tot bekering as God hulle redding begeer nie?’ wil iemand weet. ‘En hoe versoen ons dit met die Bybelse lering oor uitverkiesing?’  Aan die een kant kan ons sê dat ‘alle mense’ in v.4 na alle nasies en klasse verwys, en dat God wil hê hulle moet gered word.  Dit verwys nie na elke individu nie.  Dit is hoe v.1-2 en 7 dit verstaan.

 

Maar dan moet ons in dieselfde asem sê dat God nie ‘n plesier in die dood van die goddelose het nie, maar wil hê dat hulle tot bekering moet kom (Esg.18:23, 32). Hy begeer dus regtig mense se redding, en tog red Hy nie almal nie, maar besluit Hy soms om hulle volgens hulle verdiende loon te straf (Rm.9:22).  Ek weet nie presies hoe dit werk nie, en kan maar net sê dat daar in God se gedagtes dinge is wat ons nie verstaan nie (Dt.29:29, Jes.55:8-9).

 

Indien mense tot bekering gaan kom kan dit nie deur die godsdiens van hulle keuse wees nie. Daar is immers net “een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (v.5, vgl. 1:17, Dt.6:4, Jes.44:6, 45:5-6, Jh.17:3, 1 Kor.8:6-8).

 

Hoekom kan ons net deur Jesus na God toe kom (Jh.14:6, Hd.4:12)? Om ‘n dik en ‘n dun tuinslang aan mekaar te koppel, kort jy ‘n middelstuk wat oor beide tuinslange pas.  En vir feilbare mense om in God se heilige teenwoordigheid in te kom, kort jy ‘n Middelaar wat God en mens is, Een wat sy hand aan beide kante kan lê (Job 9:32-33).  Jesus alleen kwalifiseer, omdat net Hy God en mens is (v.5, Jh.1:1, 14).  Ons kan nie deur engele, Maria, die heiliges, die geeste van ons voorvaders, Mohammed of enigiemand anders na God toe kom nie.

 

Jesus is tog ook die enigste Een wat aan die kruis gesterf het om ons na God toe te bring (v.5). In sy groot liefde het Hy besluit om Homself as ‘n losprys vir alle mense gegee (v.6, 1, 7, Mt.20:28).  Die losprys moes gelykstaande wees aan die waarde van ons siele; dus kon Hy dit nie met geld betaal het nie, en moes Hy sy bloed of lewe gegee het (Mt.16:26, 1 Pt.1:18-19).

 

Dalk wonder jy hoekom iemand anders dit nie kon betaal het nie? Die persoon wat die losprys betaal het moes sonder sonde gewees het, want anders sou hy vir sy eie sonde gestraf moes word.  Buitendien kon geen mens die ewige straf vir iemand anders se sonde betaal het nie, wat nog te praat van miljoene mense se sonde?

 

Die Psalmdigter sê: “Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie.” (Ps.49:8-10).

 

Die Een wat dus die losprys betaal het moes so waardevol gewees het soos miljoene mense se siele. Om die ewige straf namens ons te neem moes Hy ook ewig gewees het.  En wie anders kon dit gedoen het behalwe God self?  “Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk” (Ps.49:16).

 

Maar omdat God nie kan sterf nie (1:17, 6:16), moes die Een wat in ons plek gesterf het ook ‘n mens gewees het. Omdat net Jesus God en mens is, kon net Hy die losprys betaal het.  Hierdie getuienis van verlossing het God op die regte tyd bekend gemaak (v.6, Rm.5:6, Gal.4:4, Tit.1:3).  Dit het Hy gedoen deur vir Paulus te kies om ‘n prediker, apostel en leraar van die heidene te wees (v.7, Hd.9:15, 2 Tm.1:11, Tit.1:3).

 

Paulus kon met alle eerlikheid gesê het dat hy dit nie vir homself gekies het nie, maar dat die Here hom daarvoor geroep het (v.7). God het hom gestuur om die waarheid van Jesus en die Christelike geloof aan die heidene te verkondig (v.7).  Alle mense moes die evangelie gehoor het (v.7, 1, 4).

 

Die heidene se bekering was egter nie die einddoel nie – die aanbidding van God was (v.7-8). John Piper sê:  ‘Missions exists because worship doesn’t.’[2]  M.a.w. ons deel die evangelie met mense, sodat hulle gered kan word en die Here kan aanbid.  Oral op die aarde moet mense die Here se Naam grootmaak (v.8, Mal.1:11).  Die mans moet hulle gesinne hierin lei (v.8).  Hulle moet dit nie net op Sondae doen nie, maar ook in die week heilig lewe in hulle verhouding met die Here en met ander mense (v.8, Ps.24:4, Jes.1:15).  Dit help mos nie dat ons vir die land bid, as ons eie harte en dade met sonde besoedel is nie (v.8, Ps.66:18, Jes.59:1-2, Mk.11:25).

 

Voordat jy dan vir die land kan bid, moet jy vir jouself bid. As jy nog dink dat jy hemel toe gaan omdat jy in God glo, opreg is, gedoop is, voorgestel en aangeneem is, en jou bes probeer om volgens die Bybel te lewe, is jy op die verkeerde pad.  Jy vertrou nog op jouself en nie op Jesus nie.

 

Los die dinge waaroor jou gewete jou pla, die sonde waarvoor jy so lief is. Glo God se belofte dat Hy die gratis geskenk van sy verlossing sal gee aan dié wat in sy Seun glo en op Hom vertrou om hulle te red.  Glo dat die Vader sy kruisdood in jou plek sal aanvaar, asook dat Hy ‘n Middelaar is wat gesag het om jou in God se teenwoordigheid in te bring.

 

En as jy besef het hoe verlore jy was en hoe die Here jou gered het (1:13-16), kan jy nie sy verlossing vir jouself hou nie. God se begeerte sal joune word, sodat jy ook passievol is oor die bekering van sondaars.  Jy sal nie iemand uit jou gebede uitsluit nie, maar sal bid dat alle mense gered moet word – ook Jacob Zuma (v.1-8).

 

Jy sal wil hê dat die Here die nasies na Homself toe moet bring. Jy sal ‘n hart hê vir sending en evangelisasie, en jy sal iets daaromtrent doen.  Jy sal bid vir ‘n ware herlewing in Suid-Afrika en die wêreld.  Jy sal nie tevrede wees om net te bid dat die plaasmoorde moet ophou en dat die misdaadsyfer moet afneem nie.  Jou doel is immers nie dat ons ‘n morele land moet word, waarin mense beter lewe maar nogsteeds nie die Here ken nie.  Jou gebed sal eerder wees dat mense tot bekering moet kom, sodat hulle hierdie wonderlike Jesus kan ken.  En nadat jy só gebid het sal jy nie kan stilbly nie, maar vir almal van Jesus vertel.

 

En sal die Here dit nie seën as die kerk só op haar knieë gaan en die evangelie met die wêreld deel nie? Hy het dit in 1860 onder Andrew Murray gedoen.  Voor hierdie datum was Suid-Afrika ‘n geestelike woestyn.  In Calvinia kon Nicolaas Hofmeyr bv. vir 6 jaar nie ‘n enkele persoon by die biduur kry nie.

 

Maar toe die herlewing kom het baie gemeentes bidure gehou, het die evangelie versprei, is daar kerke geplant, en moes die kerkgeboue vergroot word.[3]  En kan die Here dit nie weer doen nie?  Wat die psalmdigter vir Israel gebid het, bid ek ook vir ons land:  “Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?” (Ps.85:7).

 

[1] Thomas Brooks, The Secret Key to Heaven, p.186

[2] John Piper, Let the Nations be Glad, p.17

[3] http://frontline.org.za/index.php?option=com_content&view=article&id=1278:andrew-murray-and-the-1860-revival

Advertisements

Die goedheid en strengheid van God

Goodness and severity

Goedheid en strengheid is so teenoorgestelde soos satyn en graniet. En tog vind ons dit in perfekte proporsie in die Persoon en karakter van Jesus Christus; Hy is die Leeu en die Lam.  In Op.14:14-20 het ons ‘n voorbeeld hiervan.

 

‘n Oes van verlossing (v.14-16)

Op.14 praat van twee oeste. ‘n Man op ‘n wolk het die eerste oes ingesamel (v.14-16), terwyl ‘n engel die tweede oes ingesamel het (v.17-20).  Die eerste oes is nie in ‘n parskuip gegooi nie, terwyl die tweede oes daarin uitgetrap is (v.19-20).  Dit is dan duidelik dat ons hier met meer as een oes te doen het.

 

Die Man op die wit wolk het soos die Seun van die Mens gelyk (v.14). Hy het ‘n goue kroon op sy kop gehad en ‘n skerp sekel in sy hand (v.14).  Wat beteken dit?  Die Seun van die Mens in v.14 verwys na Jesus wat nogsteeds ‘n mens is (1:13, Hd.7:56, 17:31, 1 Tm.2:5).  Dit is ook ‘n Goddelike titel wat in Dn.7:13-14 van Hom gebruik word.  Volgens dié teks en Hd.1:9, het Hy met ‘n wolk na die Oue van Dae toe opgevaar om die ewige Koninkryk te ontvang.

 

Die wit wolk en die kroon van oorwinning [Gk. stephanos] verwys dan na sy Koningskap in die hemel, en nie na sy wederkoms nie:  Hy het op die wolk gesit en nie daarop teruggekeer soos wat Hy eendag in die toekoms sal doen nie (v.14, vgl. Hd.1:11).  Jesus het ‘n skerp sekel in sy hand gehad (v.14).  Hiermee het Hy die eerstevrug van die gelowiges uit die Jode geoes, en sodoende ‘n verdere oes onder die heidene gewaarborg (v.4, Jer.2:2-3, Mt.3:12a, Mk.4:29, Rm.1:13, 11:16, Jk.1:1, 18).

 

‘n Engel het uit die hemelse tempel uitgekom, en met ‘n harde stem vir Jesus gesê om sy sekel in die oes in te steek (v.15, vgl. v.17, 11:19). ‘Die tyd het aangebreek, omdat die oes van die land [Gk. ] ryp is,’ het hy gesê (v.15).

 

Moet asb. nie hieruit aflei dat Jesus onder die bevel van ‘n engel gestaan het nie. Die punt is eerder dat Hy die gelowiges se gebede uit die hand van die engel ontvang het (8:3-4).  Dit was húlle wat met dringende erns vir die Here gevra het om ‘n groot oes in te samel (Mt.9:37-38).[1]  Hy het hulle gebede verhoor en sy sekel oor die Beloofde Land [Gk. ] geswaai (v.16, Hd.2:41, 47, 4:4, 5:14, 6:1, 7, 9:31).

 

Soos die Jode in die eerste eeu n.C., moet ons bid dat die Here deur ons getuienis ‘n groot oes sal insamel. Ons moet bid dat baie mense tot bekering sal kom.  Ons moet bid dat die Here ‘n nuwe werk van herlewing in die kerk, asook in ons land en wêreld sal doen.

 

As jou siening van die eindtyd nie plek maak hiervoor nie, moet jy jou siening verander. Die Here self het immers ‘n groot oes belowe (7:9, Ps.126, Mt.9:37-38, Jh.4:35-36).  Volgens Paulus in Rm.11:12, 15, 25-26 sal daar in die toekoms baie Jode en heidene tot bekering kom.  Die mosterdsaadjie van God se Koninkryk het klein begin, maar uiteindelik sal dit die grootste plant in die tuin van die wêreld word (Mt.13:31-32); die rots van sy Koninkryk sal ‘n reusagtige berg word wat die hele aarde vul (Dn.2:35).

 

Die Groot Opdrag van Mt.28 sê dat die nasies, en nie net individue uit die nasies nie, Jesus se dissipels moet word.  Uiteindelik moet al die nasies van die aarde in erkenning voor Koning Jesus buig en Hom aanbid (Ps.2:8).  ‘Maar dit is onmoontlik,’ sê iemand.  Nee dit is nie.  Luister gerus na die volgende statistiek.

 

As een persoon elke dag ‘n duisend mense na die Here toe lei, sal dit 15 000 jaar neem vir die hele wêreld om tot bekering te kom (dit is nou as hy die enigste een is wat die evangelie deel).

 

Maar kom ons gestel dat een persoon vir ‘n jaar lank ‘n ander een dissipeleer. In die tweede jaar vat hy en die nuwe dissipel elkeen iemand om te dissipeleer.  In die derde jaar dissipeleer die vier van hulle elkeen iemand anders.  Indien hulle so aanhou, sal hulle binne 37 jaar die hele wêreld bereik het.[2]

 

Moenie die krag van die Heilige Gees hierin onderskat nie. As Hy op een dag 3000 mense tot bekering kan bring (Hd.2:41), kan Hy maklik binne ‘n paar jare of maande die hele wêreld tot bekering bring (as Hy wil).

 

Maar ons kan nie met gevoude arms sit en dink Hý moet al die werk doen nie. Ons moet daarvoor bid en die evangelie met mense deel (Esg.36:37, Rm.10:13-15).  Bid asof alles van die Here afhang, en deel dan die evangelie asof alles van jou afhang.  Getuig met jou lewe en met jou lippe.  Nooi mense na Sondag 7 Mei se Kruisie-veldtog toe.  Vat traktaatjies in die portaal en gee dit uit wanneer jy petrol ingooi of by die tolhek stop.

 

Ek onthou hoe ‘n oom vir ons gesê het om nooit die waarde van ‘n traktaatjie te onderskat nie. Ek het hierdie week ‘n getuienis gehoor wat dit illustreer.  ‘n Ou oomie met wit hare het vir baie jare in Georgestraat in Sydney, Australië traktaatjies uitgedeel.  Vir veertig jaar het hy byna elke dag vir 10 mense ‘n traktaatjie gegee en gevra:  ‘Excuse me, are you saved?  If you die tonight, are you going to heaven?’

 

‘n Predikant in die suide van Londen het oor die bestek van drie jaar die getuienisse gehoor van mense wat deur hierdie man se ‘traktaatjie werk’ tot bekering gekom het: ‘n besoeker in sy gemeente, ‘n vrou in Adelaide, ‘n ouderling in Perth, vier predikante in Engeland, drie sendelinge in die Karibiese eilande, ‘n vloot kapelaan in Engeland, en ‘n eks-Hindoe in Indië.

 

Toe die Londense predikant by geleentheid in Sydney was, het hy die ou oomie opgespoor. Sy naam was mnr. Genor.  Hy het vir hom vertel van die mense wat deur sy getroue ‘traktaatjie werk’ tot bekering gekom het.  Die man het gehuil en gesê:  ‘In veertig jaar het ek nog nooit gehoor van ‘n enkele persoon wat deur my werk tot bekering gekom het nie.’  Twee weke later is die oomie hemel toe.[3]

 

Jy hoef nie noodwendig die oom se metode te volg nie, maar doen wat jy kan om mense vir die Here te wen (1 Kor.9:19-22). Vra jou ongelowige familie, vriende en kollegas om op laaste Woensdag van elke maand Bybelstudie toe te kom.  Ek beplan om Bybelse lering te gee oor lewenskwessies soos selfmoord, verslawings, rebelse tieners, depressie, aborsie, ens.  Die idee is om dit met ‘n evangeliese inslag aan te bied, sodat ongelowiges tot bekering kan kom.  Ek sal dit ook op Facebook adverteer.  Bid asseblief dat die Here hierdie poging sal seën.

 

Wanneer dit by die kerk van Jesus Christus kom, is ons nie geroep om klein te droom nie. Ons moet vir die nasies bid, asook vir mense wat 150 jaar van nou af gebore sal word (Ps.78:1-8, Lk.13:29, Jh.17:20).  Al sien ons nie nou baie bekerings nie, moet ons die bg. beloftes ter harte neem.  Dit sal ons help om met groter ywer te bid en die evangelie met mense te deel.  Dit sal ons help om te volhard as ons vir baie maande en jare nie bekerings sien nie.  Dit mag ook wees dat ons agterkleinkinders eendag die oes sal inbring wat ons gesaai het (Jh.4:37-38, 1 Kor.3:6-7).

 

‘n Oes van oordeel (v.17-20)

‘n Vriend van my het tydens sy studente jare by ‘n Christelike Boekwinkel gewerk. Een Vrydag toe sê ‘n vrou vir hom dat Op.14:17-20 daardie naweek in Pretoria vervul sou word.  ‘Die swart mense se bloed gaan môre in Pretoria se strate vloei, so hoog soos die perde se tooms,’ het sy gesê.

 

My vriend het haar weer die Maandag gesien en vir haar gesê dat sy ‘n vals profeet is. Sy het eenvoudig gesê dat dit geestelik gebeur het, en dat mense dit nie kon sien nie.  Sy het nie eintlik ‘n idee gehad van wat hierdie verse in Op.14 beteken nie.  Om die teks reg te verstaan, moet ons dit met die res van die Skrif vergelyk.

 

Nóg ‘n engel het uit die hemelse tempel gekom (v.17). Soos Jesus in v.14, het hierdie engel ook ‘n skerp sekel gehad (v.17).  Volgens Mt.13:39-42, 49-50 sal die Seun van die Mens sy engele uitstuur om die goddelose te versamel en hulle in die helse vuur te gooi (vgl. v.10).  Dit sal vir ‘n laaste keer aan die einde van die wêreld gebeur, maar dit gebeur ook nou al wanneer ongelowiges doodgaan (Lk.16:22-24).

 

‘n Derde engel het van die hemelse altaar af gekom (v.18). Hy het gesag oor die vuur van die altaar gehad (v.18).  Wat beteken dit?  Die martelare het van die altaar af uitgeroep dat God hulle vyande sou oordeel (6:9-10).  God het vir die engel gesê om in reaksie op hulle gebede die vuur van sy oordeel op dié te gooi wat hulle vermoor het (v.10, 8:3-5, 16:8-9, Mt.13:41-42, Lk.11:47-51, 1 Ts.2:14-16).

 

Die derde engel het met ‘n harde stem vir die tweede een gesê om sy sekel in die wingerd te steek (v.18). Omdat die land [Gk. ] se druiwe ryp was vir God se oordeel in die parskuip, moes hy dit geoes het (v.18, Joël 3:13).  Hy het sy sekel oor die land [Gk. ] geswaai en die druiwe-oes ingesamel om dit in die groot parskuip van God se toorn te gooi (v.19).  Die parskuip was groot, omdat God baie mense geoordeel het, en omdat sy toorn groot was.  ‘n Verduideliking van hoe antieke parskuipe gelyk het, sal ons help om Johannes se beeld beter te verstaan.

 

‘n Parskuip het byna gelyk soos ‘n sement plaasdam met ‘n lae muurtjie. In die kant van die muur was daar gate met pype in.  As die plaaswerkers klaar die druiwe in die parskuip gegooi het, het hulle met hulle kaalvoete ingeklim en dit uitgetrap.  Die sap het deur die pype in vate ingeloop.  Van daar af het hulle dit gegis om wyn te maak.

 

Johannes het hierdie beeld gebruik om God se toorn oor afvallige Israel te beskryf. Israel was die Here se wingerd (Jes.5:7a, Ps.80).  Hy het alles vir haar gedoen, sodat sy goeie druiwe kon voortbring (Jes.5:1-2).  Sy het egter nie die goeie vrug van bekering voortgebring nie, maar die suur druiwe van bloedvergieting en ongeregtigheid (Jes.5:3-4, 7b, Jer.2:21, Mt.21:33-39, Jh.15:2, 6).

 

Daarom het die Here besluit om sy wingerd te oordeel (Jes.5:5-6, Esg.15, Mt.21:40-46, Jh.15:2, 6). Hy het dit in die parskuip gegooi en buite die stad (Jerusalem) uitgetrap (v.20).  Hy het dit buite die stad gedoen, omdat hulle Hóm uitgewerp het en buite die stad gekruisig het (Jh.19:17, Heb.13:12, Gn.3:23-24, Nm.5:1-4, 15:35-36, Mt.21:39).  Net soos wat hulle Hom nie as deel van die aardse Jerusalem beskou het nie, het Hy hulle nie as deel van die hemelse Jerusalem beskou nie (22:14-15, Lk.13:28).

 

Hy het sy klere en voete in hulle bloed gewas, soos wat Hy dit in die geskiedenis met Edom, Babilon, Juda en die nasies gedoen het (v.20, 19:13, 15, Ps.58:11-12, Jes.63:1-7, Jer.51:33, Klg.1:15, Joël 3:13). In 70 n.C. het die Jode se bloed uit die parskuip van God se toorn gevloei.  In die oorlog was die Romeine se perde tot aan hulle tooms met die Jode se bloed besmeer (v.20).  Die bloed het vir omtrent 300 km [Gk. 1600 stadia] gevloei, die lengte van die Beloofde Land (v.20).  Die punt is dan dat God die hele land geoordeel het.  Die ‘wyn’ van hulle bloed is in v.10 in die beker van God se toorn geskink, en sou in hfst.16 in die bakke van sy oordeel gegooi word.

 

So goed soos wat die Here is wanneer dit by die redding van sondaars kom (v.14-16), so streng is Hy oor dié wat weier om hulle te bekeer (v.17-20). “Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God” (Rm.11:22).  Moet asb. nie vir ‘n oomblik dink dat die God van die Ou Testament strenger is as die Jesus van die Nuwe Testament nie.

 

Aan die ander kant moet ons nie dink Jesus is ‘n sadis wat daarvan hou om streng te wees nie. Volgens Thomas Watson is Hy soos ‘n by wat van nature heuning gee, en jou net sal steek as jy Hom kwaad maak.[4]  Dit is deel van sy karakter om sondaars te red.  “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Jh.3:17).

 

Hy het alles moontlik gedoen dat mense van hulle sonde gered kan word. Waar Israel as God se wingerd gefaal het, was Jesus die Ware Wingerd wat goeie en aanneemlike vrugte vir Hom voortgebring het (Jh.15:1).  In sy lewe en dood het Hy die Vader behaag.  Uit liefde vir die Vader het Hy gewilliglik sy lewe gegee, sodat ons nie in die parskuip van God se toorn hoef te beland nie.

 

Met diep droefheid en liefde vir sy Seun en vir sondaars, het die Vader vir Jesus in die parskuip van Golgota verbrysel: “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel” (Jes.53:10).  Aan die kruis het die Vader Hom getrap totdat Hy een bloed massa was.

 

O, mag die Vader en die Seun se liefde ons harte smelt. Mag dit by ons aandring om in Hom te glo.  Mag dit ons help om deur geloof in die Ware Wingerd te bly, sodat ons die gesonde druiwe van gehoorsaamheid en bekering sal dra (Jh.15:2-8).  Mag dit ons gewetens wond om nie aan te hou met die sonde wat Hom so diep en dodelike gewond het aan die kruis nie:  ons hoogmoed, selfsug, jaloesie, bitterheid, wellus, kleingeloof, twyfel, vuil taal, leuens, diefstal, egbreuk, opstandigheid, geestelike luiheid, ontrouheid, ongehoorsaamheid, geskinder, materialisme en baie ander sondes.

 

Iemand wat aanhou om die saad van sy of haar sondige gedagtes, woorde en dade te saai, sal die Here se oordeel oes:

 

  • “Wie onreg saai, sal onheil maai” (Sp.22:8).
  • “Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai” (Hos.8:7).
  • “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie [‘moenie dink jy gaan daarmee wegkom nie’]; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” (Gal.6:7-8).

 

Uiteindelik sal jy deel van die bloedbad word (v.20). Maar dit hoef nie so te wees nie.  “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.  Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jes.55:6-7).

 

Moenie die Here se goedheid misbruik nie. Hy is nie goed en geduldig, sodat ons met ons sonde kan aanhou nie.  Tot nou toe het Hy Suid-Afrika en die res van die wêreld se sonde verdra, omdat Hy mense tot bekering wil lei (Rm.2:4, 2 Pt.3:9).  Moenie dom wees en die strengheid van Jesus Christus kies, as Hy met beide hande sy goedheid na jou toe uitstrek nie.

 

[1] Ons moenie die implikasie hiervan te ver voer, sodat ons dink gelowiges moet deur of tot engele bid nie. Om so te dink sou tekste soos 19:10, 22:8-9 en Kol.2:18 weerspreek.

[2] https://www.youtube.com/watch?v=Ums9X9xJrZA

[3] Die volledige getuienis is beskikbaar by https://www.youtube.com/watch?v=r8jsUiTuPIA.  Ek sal enigiemand aanspoor om daarna te luister – dit is aangrypend.

[4] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.93

Die evangelie in ’n neutedop

nutshell

 

Paulus het ‘n paar boeke vol geskryf waarin hy die evangelie ontrafel het.  Die hele Romeine handel oor die teorie en praktyk van hierdie één onderwerp.  Ons moet egter nie net een aspek daarvan bestudeer nie, maar ook die geheelbeeld kry.  En dit gee Rm.1:17 vir ons.

 

God se geregtigheid

Wat is die geregtigheid van God waarvan Paulus in v.17 praat?  ‘n Mens kan skaars hierdie vraag beantwoord sonder om aan Martin Luther te dink.  Hy wou geweet het hoe hy, ‘n verlore sondaar, aanneemlik kan wees voor God.

 

Die geregtigheid van God in Rm.1:17 het hom mal gemaak.  Hy het gedink dit verwys na God se regverdige karakter waardeur Hy sondaars straf.  ‘Ek het die geregtigheid van God gehaat,’ het hy gesê.  ‘Ek was kwaad vir God.  Deur die mens se erfsonde is hy reeds vir ewig verlore.  Die Tien Gebooie verpletter ons.  En asof dit nie genoeg is nie, dreig die Here ons nog verder met sy geregtigheid en toorn wat in die evangelie geopenbaar word!’

 

Maar na ‘n lang gestoei het die Here sy oë oopgemaak om Paulus se woorde te verstaan:  God het sy geregtigheid as ‘n gratis geskenk belowe aan dié wat in sy Seun glo.  ‘Ek het gevoel dat ek opnuut gebore is, en dat ek deur die oop hekke van die paradys ingegaan het,’ het hy gesê.[1]

 

Maar op daardie stadium (1513) het Luther nog gedink dat regverdigmaking ‘n aksie van God is waardeur hy die sondaar se natuur verander (die Bybel noem dit wedergeboorte).  Hy het eers in 1518/19 besef dat regverdigmaking die aksie van God is waardeur Hy dié wat in Jesus glo, onskuldig en regverdig verklaar.[2]

 

Waar Adam en die res van die mensdom gefaal het, was Jesus Christus volmaak gehoorsaam aan die Vader.  Hy het ook die straf wat ons verdien het op Homself geneem aan die kruis.  Dié wat in Hom glo se sonde word uit die rekordboeke uit verwyder (Kol.2:14); God reken dan sy Seun se volmaakte geregtigheid aan hulle toe, asof dit húlle was wat die wet perfek gehoorsaam het (2 Kor.5:21).

 

Dít is die geregtigheid van God waarvan Paulus in v.17 praat.  En dit is hiérdie geregtigheid wat maak dat die evangelie nie net nuus is nie, maar goeie nuus.  Dit is die hartklop van die evangelie.  Elke ander godsdiens sê:  ‘Probeer net ‘n bietjie harder en hoop vir die beste.’  Die evangelie sê:  ‘Jy kan niks doen om jouself te red nie; God het alles gedoen.  Hy is jou enigste hoop om gered te word:  sý perfekte lewe, kruisdood en opstanding.’

 

Omdat Christus dan ons geregtigheid is (Jer.23:6, 33:16, 1 Kor.1:30), kan ons net aanneemlik wees voor God as Hý in ons plek staan.  Dus moet ons saam met Paulus en Luther begeer om “in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Fil.3:9).

 

Sonder hierdie geregtigheid is ons oppad hel toe en is daar vir ons geen hoop om in God se heilige teenwoordigheid in te kom nie.  Volgens 3:21 help dit nie eers jy onderhou die wet om God se guns te probeer wen nie:  “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet”.  Daar is net een manier om hierdie geregtigheid te kry.  En dit lei ons na die volgende punt toe.

 

Die sondaar se geloof

Ongelowiges het ‘n lae siening van God.  Hulle dink dat hulle Hom deur hulle onvolmaakte gehoorsaamheid tevrede kan stel.  Wanneer Hy hulle deur die wet van hulle sonde oortuig, probeer hulle om een of ander betaling te maak sodat Hy hulle sal vergewe.  Martin Luther en George Whitefield het dit gedoen.[3]

 

Beide van hulle het growwe klere gedra en hulleself in die winter laat koud kry, in die hoop dat hierdie kastyding die Here tevrede sou stel.  Beide van hulle het vir ure op die grond gelê en hulle sondes bely.  Beide van hulle het vir lang tye gevas, sodat hulle liggame swak geword het.

 

In ons kultuur is mense nie so fanaties nie.  En tog het ons ‘n manier ontwikkel waardeur ons probeer om onsself teen die blitsende pyle van God se wet te beskerm.  Wanneer die wet ons in ‘n hoek druk sê ons:  ‘Niemand is perfek nie; dit is maar net menslik om te sondig.’

 

Maar waar het God gesê dat Hy vir ons twee of drie gratis sondes gee?  En wie het gesê dat dit normaal is om te sondig?  Is dit nie abnormaal en die gevolg van die sondeval nie?  Of het die Here sy heilige standaard verlaag en sy volmaakte karakter gekompromeer om by ons aan te pas?

 

Om jou sonde te verskoon of dit met godsdienstige dade te probeer regmaak, gaan nie werk nie.  Daar moet ‘n ander oplossing wees.  En dit is die een wat Paulus in v.17 gee:  “uit geloof tot geloof”.  Dit beteken eenvoudig dat Christus se geregtigheid in die evangelie van begin tot einde deur die geloof verkry moet word.  En as gevolg hiervan kan alle godsdienste in twee kampe verdeel word:

 

[i] Dié waarin mense dink dat hulle in hulleself goed genoeg is om die Here se guns te wen.

 

Soos ‘n klein seuntjie wat dink dat hy nie sy pa se hulp nodig het om oor die straat te loop nie, dink hulle dat hulle nie Jesus se geregtigheid nodig het om voor God aanvaar te word nie.

 

“Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.” (10:3).

 

Hierdie mense vertrou op hulleself en hulle pogings om regverdig te wees voor God.  George Whitefield het gesê dat dit makliker is om met ‘n tou van sand na die maan toe te klim, as om deur jou goeie werke in die hemel te kom.[4]

 

[ii] Bybelse Christenskap waarin die mens homself as ‘n verlore sondaar beskou en geensins op sy goeie werke vertrou nie, maar op “die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo” (3:22).

 

Die profeet se getuienis

Uit die apostel se aanhaling van Hab.2:4 leer ons dat die regverdige uit of deur die geloof sal lewe.  Maar vandag is daar mense wat dit nie verstaan nie.  Hulle sê dat geloof iets is wat ons tot ons redding bydra, die één ‘werk’ waardeur ons gered moet word.  Volgens hulle word ons nie deur ons geloof gered nie, maar op grond daarvan.  Die nuutse Afrikaanse Bybel vertaal dit ook so.

 

Maar geloof is nie die basis vir ons redding nie – Christus se lewe, kruisdood en opstanding is.  Geloof is maar net die kanaal waardeur ons hierdie geregtigheid van Christus ontvang (v.17).  Kom ek illustreer dit só:

 

Jy voel goor en maak ‘n afspraak by die dokter.  Hy sê vir jou dat jy terminaal siek is:  jy het net ‘n paar weke oor om te lewe.  Maar hy het ‘n vloeistof wat jou kan genees.  Vir die vloeistof om te werk moet hy dit direk in jou are inspuit.  Hy doen dit en jy word gesond.  Wat het jou genees:  die vloeistof of die inspuiting?  Die vloeistof natuurlik.  Maar hoe het hy die vloeistof in jou are gekry?  Deur middel van die inspuiting.

 

Net so is dit nie die inspuiting van geloof wat jou red nie, maar die vloeistof van genade.  Maar die enigste manier om die lewegewende vloeistof van genade te ontvang, is deur die inspuiting van geloof.  Jy kan dan nie sonder geloof gered word nie, maar dit is nie jou geloof wat jou red nie – dit is God se genade.

 

Dit was nog altyd die manier om gered te word, ook in die Ou Testament.  Eva, Moses, Rut en Dawid is nie deur hulle wetsonderhouding gered nie, maar deur hulle geloof in die Messias wat sou kom (vgl. Rm.4, Jes.53, Jer.23:5-6).  Hab.2:4 illustreer dit vir ons.

 

Die Here het vir Habbakuk gesê dat Hy vir Israel deur die Babiloniërs sou straf.  Dié wat hierdie waarskuwing geglo het en hulle bekeer het, sou gelewe het.

 

Net so waarsku die Here ons dat die finale oordeel oppad is.  Dié wat hulle bekeer en in Jesus glo, sal die ewige lewe ontvang (v.17, Jh.10:10, 17:3).

 

Die meeste Suid-Afrikaners het nog nooit hierdie lewe ontvang nie.  Ek twyfel ook nie vir ‘n oomblik dat sommige van hulle van tyd tot tyd in ons kerke sit nie.  Hulle het nog nooit die wonderlike waarheid van regverdigmaking deur die geloof verstaan, of die voordele wat daaruit voortspruit ervaar nie.

 

Hulle het nog nooit skuldig in die hof gestaan, en gesien hoe die Regter hulle boete betaal en hulle skuld afskryf nie.  Hulle het ook nog nooit gehoor dat Hy besluit het om hulle nie na die bouvallige huise van hulle sonde toe terug te stuur nie, maar dat Hy besluit het om hulle as sy kinders aan te neem, sodat die hemel met al sy skatte nou aan húlle behoort.

 

En hulle sal ook nie hierdie dinge verstaan, totdat hulle nie geloof verstaan nie.  Dit is tog deur geloof wat ons elke ander voorreg ontvang.  Daarom is dit baie belangrik om te verstaan hoe die Bybel geloof definieer.  As jy vir die deursnee Afrikaner vra wat geloof is, sal jy een van volgende antwoorde kry:

 

#1:  ‘Geloof is om te weet dat die Here daar is vir jou.  Hy help jou.  Bid daarom elke dag tot Hom, want sonder Hom kan jy nie deur die dag kom nie; sonder Hom kan jy nie lewe nie.’

 

Dit is ‘n tydelike geloof wat niks te doen het met reddende geloof nie.

 

#2:  ‘Geloof is iets wat jy moet uitspreek (‘positive confession’).  Jy moet genoeg geloof hê en in jou woorde glo.  Jy moet in jou geloof glo en nie twyfel nie.  As jy nie die geld of gesondheid kry waarvoor jy gebid het nie, is dit omdat jy nie genoeg geloof het nie.’

 

Hierdie is die Word of Faith beweging se vals geloof.  Dit is jammer dat baie mense dit met reddende geloof verwar.  Reddende geloof het niks te doen met hoe sterk of hoe swak jou geloof is nie.  Eintlik gaan dit nie eers oor jou geloof nie, maar oor die Een in wie jy glo.  Die Puritein,Thomas Watson, het gesê:  ‘A weak faith may receive a strong Christ… The promise [of salvation] is not made to strong faith, but to true [faith].’[5]

 

#3:  ‘Geloof is om te weet dat jy die potensiaal het om ‘n sukses van jou lewe te maak.  Glo daarom in jouself en die vermoeëns wat die Here jou gegee het.’

 

Te veel gelowiges weet nie hoe om te onderskei tussen die Bybel en die teorieë van moderne sielkunde nie.

 

#4:  ‘Geloof is ‘n risiko wat jy neem en ‘n sprong in die donker.  Ek sal eerder die kans vat en in Jesus glo as om uit te vind dat die hel regtig is, en dan vir ewig daar te moet brand.’

 

Iemand wat só praat wys dat hy nie reddende geloof verstaan nie.  Volgens die 1 Kor.15:1-19 en soortgelyke tekste rus ons geloof nie op die verrotte fondasie van ‘n onsekere hoop nie, maar op die historiese feite van Christus se ewige Godheid, sy vleeswording, sy kruisdood vir sondaars, sy begrafnis en sy liggaamlike opstanding.

 

“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop [nie ‘n onsekere hoop nie, maar ‘n vaste Bybelse hoop], ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb.11:1).

 

#5:  ‘Geloof is om vas te hou aan Jesus se kruisdood en opstanding, en om daarna te strewe om volgens die Bybel te lewe.’

 

Hierdie een is subtiel, maar dit is nie reddende geloof nie.  Dit is die leuen waarteen Paulus die Galasiërs gewaarsku het.  Hierdie mense sê dat geloof in Christus nie genoeg is nie (kontr. 3:28).  Hulle glo in redding deur geloof plus dinge soos kerkbywoning, tiendes, vas en gebed, Sabbatsonderhouding, hulp aan die armes, die navolging van ‘n sekere dieët, ens.  Hulle sê:  ‘As jy genoeg hiervan gedoen het, sal God jou sondige rekord skoonvee en jou regverdig maak (en ook hier is hulle definisie nie Bybels nie).’

 

#6:  ‘Geloof is om te weet dat Jesus die Seun van God is wat mens geword het, aan die kruis gesterf het vir ons sondes, en opgestaan het uit die dood – niks meer nie en niks minder nie.’

 

Vir baie van ons mense klink dit reg, maar ons moet hulle help om nie hiervoor te val nie.  Satan en sy demone glo dit ook, en hulle is nie gered nie (Mk.1:24, 5:7, Jk.2:19).  Om gered te word kan jy nie minder as dit glo nie.  Maar reddende geloof stop nie by die feite nie.  Om bloot op ‘n ‘altar call’ te reageer of ‘n sondaarsgebed op te sê sonder dat jy jou bekeer het, is nie reddende geloof nie.

 

Vandag is daar mense wat nie bekering by hulle definisie van geloof wil insluit nie, omdat hulle dit as ‘werk’ beskou.  In sommige gevalle is dit ‘n poging om vir geliefdes te skerm wat hulle ‘harte vir die Here gegee het’, maar nie verander het nie.  Volgens hulle is dié mense vleeslike Christene wat vir Jesus as Verlosser aangeneem het, maar nog nie as Here nie.

 

Maar Jesus (wat die Verlosser en Here is!) het gesê dat jy die boom aan sy vrugte sal ken.  Dit wys dan vir ons dat mense wat in Jesus glo maar hulle nie bekeer het nie, nie werklik in Hom glo nie.  Geloof en bekering is kante van dieselfde munt (Hd.20:21).  Ons kan praat van ‘n berouvolle geloof en ‘n gelowige bekering.  Om van jou sonde af weg te draai is bekering, en om na Jesus toe te draai is geloof.[6]  Hierdie geloof en bekering sal altyd lei tot goeie werke (Jk.2:14-26, 2 Pt.1:5-7).  John Piper sê:  ‘It is faith alone which justifies, but the faith which justifies is not alone.’[7]

 

#7:  ‘Geloof is om met sekerheid te weet dat jy aan Jesus behoort en dat jy oppad is hemel toe.’

 

Hier gaan jy vir die enkele depressiewe Eeyore’s in jou gemeente moet wys dat sekerheid van geloof nie dieselfde is as geloof nie.  Dit is moontlik dat iemand ware geloof kan hê, sonder dat hy of sy sekerheid van geloof het.  Jy sal hierdie mense moet help om objektief te fokus en nie subjektief nie.  Ware geloof fokus op Christus, en nie op ‘n gevoel wat jy in jouself het nie.

 

#8:

 

  • Geloof, soos bekering (Hd.5:31, 11:18, 2 Tm.2:25), is iets wat net God vir jou kan gee (Ef.2:8-9, Fil.1:29). Dit is Hy wat jou instaatstel om te kan
  • Geloof beteken om glad nie op jouself of jou pogings staat te maak om aanneemlik te wees voor die Here nie; geloof vertrou volkome op Christus se Persoon, lewe, kruisdood en opstanding. Werke verhef die sondaar; geloof verhef vir Jesus (Ef.2:8-9).
  • Geloof hou nie op wanneer jy tot bekering gekom het nie, maar hou aan totdat jy die dag doodgaan (Mt.10:22, Lk.22:32, Hd.14:22, Kol.1:23).
  • As beproewing maak dat jy nie meer in Jesus glo nie, het jy in die eerste plek nie reddende geloof gehad nie (Heb.10:38-39, 1 Pt.1:5-7).

 

Hierdie laaste definisie van geloof is die regte een.  Die ware Christen bely dit, al kan hy dit nie noodwendig in soveel woorde sê, of al die verse onthou nie.  Ons kan nie bekostig om op hierdie punt te wankel nie.  As iemand sê dat jy op enige ander manier gered kan word, is hulle onder God se ewige vervloeking (Gal.1:8-9).

 

Jy kan nie jou vingers kruis en hoop dat mense op jou begrafnis sal sê:  ‘As daar nou een persoon was wat reguit hemel toe is, is dit sy’ nie.  As jy dít dink, vertrou jy op jouself en is jy oppad hel toe.

 

Wees eerder soos die siek vrou wat in die 1700’s gelewe het.  Martin Boos, ‘n Duitse Katoliek, het haar besoek en gesê:  ‘Ek is seker dat jy in vrede sal sterf; jy het so heilig gelewe.’  Sy het geantwoord:

 

‘As ek op my werke vertrou sal ek verseker verlore wees.  Ek vertrou op Jesus my Verlosser, en daarom kan ek in vrede sterf.  Hoe anders kan ek voor die hemelse Regbank staan, waar ek rekenskap van my woorde moet gee?  Watter een van ons dade sal nié te lig bevind word wanneer dit in God se skaal geweeg word nie?  Nee, as Christus nie vir my gesterf het nie, sou ek vir ewig verlore gewees het, ten spyte van al my goeie werke.  Christus is my hoop, my verlossing en my ewige blydskap.’[8]

 

[1] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, pp.47-48

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, p.70

[3] Reeves, Ibid, p.38 en Arnold Dallimore, George Whitefield, pp.73-76

[4] Iain Murray, Heroes, p.55

[5] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.220 (eie beklemtoning).

[6] Wayne Grudem, Systematic Theology, p.709

[7] John Piper, Future Grace, p.21

[8] Iain Murray, The Old Evangelicalism, p.99

Wat verwag die Here van jou?

Oor bekering, doop en kerklidmaatskap

baptism-and-membership

Dit is aaklig om nie te weet wat jou baas, afrigter, familielid of onderwyser van jou verwag nie. Dit voel alewig asof hulle kwaad is vir jou.  ‘Het ek dit reg gedoen?’ wonder jy.  Maar jy weet nie, omdat hulle nie vir jou sê nie.  Gelukkig is die Here nie so nie:  Hy sê presies wat Hy van jou verwag.  In Hd.2:37-41 sê o.a. wat Hy van jou verwag m.b.t. bekering, die doop en kerklidmaadskap.

 

Die Jode se vraag (v.37)

Het jy al ooit ‘n preek gehoor waarin dit vir jou gevoel het of die Here net met jou praat?  Was dit dalk ‘n preek waarin die Here jou hart blootgelê het, sodat dit vir jou gevoel het of iemand vooraf vir die prediker van jou situasie vertel het?  Ek het al so ‘n preek gehoor.

 

En in Hd.2 het Petrus se hoorders so ‘n preek gehoor. Sy woorde het soos ‘n mes in die Jode se harte ingesny (v.37).  ‘Julle het Hom gekruisig,’ het hy in v.23, 36 vir hulle gesê.  Die Gees wat in v.1-3 uitgestort is het hulle daarvan oortuig dat hulle die Here en langverwagte Messias gekruisig het (Jh.16:8, 1 Kor.2:8).  Nou wou hulle dinge reggemaak het, maar hulle het nie geweet hoe nie.  Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra:  ‘Wat moet ons doen, broers?’ (v.37).

 

Petrus se antwoord (v.38-39)

As ‘n sportspan baie goed is, is daar min mense wat ‘n neutrale gevoel teenoor hulle het: òf jy hou baie van hulle, òf jy haat hulle.  En hoeveel te meer is dit nie so m.b.t. Jesus nie?  Jy kan nie neutraal wees teenoor die ware Jesus van die Bybel nie:  as jy nie vir Hom is nie, is jy teen Hom (Mt.12:30).

 

Dít is wat Petrus in hierdie verse onder die Jode se aandag wou bring. Daar was net een manier vir hulle om reg te wees met God:  hulle moes hulle bekeer het – veral daarvan dat hulle die Messias verwerp en gekruisig het (v.38, 22-36).  Hulle moes geglo het dat Jesus se wonderwerke, kruisdood en opstanding bewys het dat Hy die Messias is (v.22, Ps.16, 22, 110, Jes.35, 53, 61).  As hulle hulle bekeer het, sou Hy hulle op grond van hierdie selfde kruisdood vergewe het (v.38, Lk.24:47).

 

Saam met die bekering en vergifnis het die doping met die Gees gegaan. Dié wat hulle bekeer het, sou ook onmiddellik die gawe van die Heilige Gees ontvang het (v.38, 1:5).  “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” (Rm.8:9).  Sonder die Heilige Gees kan ons nie Christus se nuwe lewe in ons hê nie (Tit.3:5-7).  Dit is ook deur Hom wat Christus ons in die gemeente inlyf (1 Kor.12:13).

 

Om hierdie bekering, vergifnis en doping met die Heilige Gees uit te beeld, moes die Jode in die Naam van Jesus Christus met water gedoop word (v.38, 10:47, 22:16). Dit is nie dat die doop iets tot hulle redding bygedra nie (Ef.2:8-9).  In die tyd van die Nuwe Testament is mense gedoop op die dag wat hulle tot bekering gekom het (v.41).  Daarom het Petrus bekering, die doop, vergifnis en doping met die Heilige Gees in een pakkie toegedraai (v.38).

 

Jesus se belofte van die Heilige Gees (Jh.14, 16) was nie net vir die Jode in Petrus se tyd nie, maar ook vir hulle kinders en vir die heidene wat in ver lande gebly het (v.39, 22:21, Jes.44:3, 59:19, Ef.2:11-13). Die Gees sou na dié toe gekom het wat die Here na Homself toe geroep het.  Hulle sou sy roepstem in hulle harte gehoor het:  ‘Staan op uit die graf van jou sonde; maak jou blinde oë oop om die waarheid van Jesus se kruisdood en opstanding te sien!’ (v.39, Joël 2:32).

 

Petrus se pleidooi (v.40)

Hiper-Calviniste glo dat ‘n mens nie vir ongelowiges mag sê om hulle te bekeer en in Jesus te glo nie, omdat hulle dit nie uit hulleself uit kan doen nie. Maar om so te redeneer is nie Bybels nie.

 

In v.39 het Petrus gesê dat God mense na Homself toe sal roep, en in v.40 het hy gesê dat die ongelowige Jode hulleself van die Here se oordeel moet red.  Daarmee het hy nie bedoel dat die krag om gered te word in onsself lê nie, maar eerder dat ons ‘n verantwoordelikheid het om na die Here toe te draai.

 

Petrus het van die opstanding en van Jesus se Messiaskap te getuig (v.40, v.32, 1:22, 3:15, 4:33, 9;22, 10:40-43, 18:28, 28:23). Hy het nie maar net die koue feite weergegee nie, maar het by die Jode aangedring om hulle te bekeer (v.39).  Die Here sou hulle in 70 n.C. geoordeel het (v.39, 19-20).  Om hulleself van hiervan te red, moes hulle van daardie bose geslag af weggedraai het (v.39, vgl. Dt.32:5, Fil.2:15) en die Naam van die Here Jesus aangeroep het (21, Joël 2:32, Rm.10:13).

 

Die Jode se reaksie (v.41)

Spurgeon het van ‘n sekere Mary Bailey vertel wat 50 jaar na haar bekering eers gedoop is. Spurgeon se reaksie hierop was soos volg:  ‘…it is to be hoped that none will imitate her by postponing the confession of their faith in Jesus for so long a time.  She lived half a century in disobedience to her Lord…’[1]  Die psalmis het gesê:  “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou” (Ps.119:160).

 

In v.41 sien ons hoe die Jode wat tot bekering gekom het, dadelik gedoop is en by die gemeente gevoeg is. Die Griekse passief wys dat hulle nie hulleself bygevoeg het nie – die Here het dit gedoen (v.41, 47).  Volgens Lukas is daar omtrent 3000 mense by die gemeente gevoeg (v.41).  Dit blyk dan dat hulle rekord gehou het van hoeveel lidmate daar was (vgl. 4:4).

 

Sommige dink dat daar nie genoeg tyd en water was om 3000 mense te doop nie, en dat Lukas oordryf het. Maar as al die apostels gehelp het, kon elkeen van hulle 250 mense gedoop het.  En as 1:15 se 120 dissipels gehelp het, kon elkeen van hulle 25 mense gedoop het.  Wat die hoeveelheid water betref sê John MacArthur dat argeoloë groot mikvahs of doopfonte in Jerusalem ontdek het.  Die Jode het dit in hulle reinigsrites gebruik.[2]

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Wat verwag die Here van jou?  Volgens v.41 lyk die volgorde só:  jy moet die evangelie glo en jou bekeer, gedoop word, en by die gemeente aansluit.  Jy kan nie volgorde omruil of een van die opdragte uitlos nie.  Jy kan nie gedoop word of ‘n lidmaat word, as jy nog nie gered is nie.  Jy kan nie die evangelie glo, en dan weier om jou te laat doop en by die gemeente aan te sluit nie.  Jy kan ook nie by die gemeente aansluit as jy nie gedoop is nie.  Watter een van hierdie dinge moet jy nog doen; watter een stel jy uit?

 

[1] Het jy nog nie die evangelie in jou hart ontvang en jou bekeer nie? Wat verhinder jou?  Erken dat jy teen die Here gesondig het, omdat jy vir jouself gelewe het en nie ‘n God oor jou wil hê wat vir jou sê hoe jy moet lewe nie.  Bely dat jy vir jouself ‘n god geskep het wat net liefde is, omdat jy nie van sy heilige oordele hou nie.  Bekeer jou van die dinge waaroor jou gewete jou pla, en selfs van die dinge wat jy al so baie gedoen het, dat dit jou nie meer pla nie.

 

Glo dat Jesus se kruisdood vir sondaars voldoende is om jou sonde weg te was. Glo dat Hy uit die dood uit opgestaan het en vertrou Hom om jou te red.  Glo dat sy liefde opreg is en dat Hy jou redding begeer.  Hoop geheel en al op Hom om jou te verlos, net soos wat jy op die grond onder jou voete vertrou om jou gewig te dra.  As jy hierdie liefdevolle Christus leer ken, sal jy nie anders kan as om Hom lief te hê en te doen wat Hy vir jou sê nie – jy sal wil.

 

[2] Het jy al tot bekering gekom, maar dit nog nie openlik in die doop bely nie? Die Here wil hê jy moet gedoop word; dit is nie opsioneel nie (v.38, 10:48, Mt.28:19).  “En wat noem julle My:  Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lk.6:46).  Wat beveel die Here aangaande die doop?

 

Gelowiges, en nie babas nie, moet gedoop word (v.38, 41, 8:12, 9:18, 10:47-48, 16:14-15, 30-33, 18:8, 19:1-6, 22:16, Mt.28:19, Mk.16:16, Rm.6:3-4, 1 Kor.1:2, 14-16, Gal.3:26-27, Ef.4:5, Kol.2:11-13, 1 Pt.3:21). Ek weet dat daar besware teen die Baptiste se siening van die doop is.  Laat my toe om hulle een vir een te beantwoord.

 

Beswaar #1: ‘Die verbond vereis dat gelowiges se kinders gedoop moet word.’

 

Antwoord: Mense wat dit sê verstaan nie die verbond nie.  In die Ou Testament het ‘n mens deur geboorte deel geword van God se uitverkore volk.  Om te wys dat ‘n kind deel gehad het aan God se verbond met Israel, is hy op 8 dae besny.

 

Om deel te hê aan God se nuwe verbond met die kerk moet ‘n mens geestelik gebore word en gedoop word as ‘n illustrasie daarvan. Soos wat besnydenis onder die ou verbond op fisiese geboorte gevolg het, moet die doop onder die nuwe verbond volg op wedergeboorte.

 

Beswaar #2: ‘Kol.2:11-13 sê dat die doop die besnydenis vervang, en omdat dit so is moet babas gedoop word.’

 

Antwoord: Paulus sê nie hier dat die doop die besnydenis vervang nie, maar hy praat van mense wie se harte besny is (m.a.w. hulle is weergebore).  Hulle was geestelik dood, maar deur hulle geloof in Jesus is hulle opgewek en lewe hulle nou saam met Hom.  Volgens Paulus is dit húlle wat gedoop moet word.

 

Beswaar #3: ‘Maar wat van die tekste wat praat van huisgesinne wat gedoop is:  kan ons nie hieruit aflei dat daar babas was nie?’

 

Antwoord: Nee, want die tekste sê dit nie.  Eintlik sê die meeste van hierdie tekste vir ons dat die gesinne wat gedoop is, nie babas in gehad het nie.  Cornelius en sy huisgesin is gedoop, maar hulle het ook almal die Here gevrees, die Gees ontvang en tot bekering gekom (10:2, 44, 47-48, 11:14-15).  Die tronkwag en sy huisgesin is gedoop, maar hulle het ook almal die evangelie gehoor, geglo en hulle daarin verbly (Hd.16:30-34).  Stefanas en sy huisgesin is gedoop, maar hulle was ook die eerste bekeerlinge in Achaje en het getrou in die kerk gedien (1 Kor.1:16, 16:15).

 

Beswaar #4: ‘Wat van 1 Kor.7:14 wat sê dat die kinders deur hulle gelowige ouers geheilig word?’

 

Antwoord: Die woord ‘heilig’ beteken om af te sonder.  Al wat die teks sê is dat gelowige se kinders deur die Here afgesonder word om in ‘n huis te bly waar hy of sy die evangelie kan hoor.  Die teks sê ook dat die ongelowige party in ‘n huwelik deur die gelowige party geheilig word.  En as die kinders gedoop moet word, moet die ongelowige huweliksmaat ook gedoop word.

 

Beswaar #5: ‘Maar het Jesus nie in Mt.19:14 gesê dat ons nie die kindertjies moet verhinder om na Hom toe te kom nie?’

 

Antwoord: Ja, maar Hy het nie gesê dat ons hulle moet doop nie.

 

Beswaar #6: ‘In v.39 sê Petrus dat die belofte vir die Jode en hulle kinders is.’

 

Antwoord: Volgens v.38 verwys die belofte nie na die doop nie, maar na die Heilige Gees.  En volgens die res van v.39 is die gawe van die Heilige Gees slegs vir dié wat die Here na Homself toe roep, vir dié wat tot bekering kom.  Die kinders in v.39 verwys dan nie na babas nie, maar na die Jode se nageslag wat in Christus glo (vgl. ‘seuns en dogters’ in v.17).

 

Die opdrag is dan duidelik: as jy jou bekeer het en in Jesus geglo het, moet jy gedoop word.  Dit geld nie net vir party mense nie, maar vir almal (v.38) – en jy is nie die uitsondering op die reël nie.

 

[3] Het jy al tot bekering gekom en jouself laat doop, maar nog nie by ‘n gemeente aangesluit nie? Volgens v.41 het die Here mense by die gemeente gevoeg.  Moet dan nie van die gemeente af wegbly as jy dit kan help nie.  Moet ook nie nalaat om by ‘n goeie gemeente aan te sluit en jouself so aan Jesus en sy liggaam te wy nie.

 

Let asseblief op dat die Here mense by die gemeente gevoeg het (v.41, 47).  Geen ‘kerkraad’ of gemeentevergadering mag aan sy vereistes peuter of verander nie.  Daarom kan ons nie van iemand ‘n lidmaat maak as hy of sy ongered of ongedoop is nie (v.41).

 

Joel Beeke is ‘n predikant in Amerika. Hy het eenkeer sy hart by sy ouer vriend uitgestort en vir hom gesê:  ‘Ek voel ontmoedig; die mense in die gemeente het my lief of hulle haat my – niemand staan neutraal nie.’  Sy vriend was in ekstase:  ‘Wonderlik!’ het hy gesê.  ‘Dit wys dat jy besig is om deur te dring!’

 

Ek wil mooi vra dat jy nie vandag neutraal sal staan nie, maar dat jy ‘n besluit sal neem. Bekeer jou, word gedoop en sluit by die gemeente aan.  Om neutraal te bly is om vir Here te sê:  ‘Ek gaan nie doen wat U van my vra nie.’

 

[1] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, p.146

[2] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Acts 2:41

Die boek wat die wêreld verander het

bible-and-key

Die topverkoper-boeke in die geskiedenis sluit onder meer boeke soos die volgende in: A Tale of Two Cities deur Charles Dickens, J.K. Rowling se Harry Potter reeks en The Hobbit deur J.R.R. Tolkien.  Nie een van hulle kom egter naby die Bybel nie wat meer as 5 biljoen kopieë verkoop het nie.  En dan praat ons nie eers van die sagte kopieë op mense se rekenaars, tablette en selfone nie.  Ons tel ook nie die Bybels wat by die tienduisende in die geskiedenis verbrand is nie.

 

Geen ander boek word so gevrees en gehaat nie. Geen boek is lewend en kragtig om deur die werking van die Heilige Gees mense se harte en lewens te verander nie (Heb.4:12).  Geen boek het al ooit so ‘n groot invloed op die geskiedenis van koninkryke, lande en nasies gehad nie.  En dis presies wat die die Here in Op.10 voorspel het.

 

Die engel (v.1-7)

Jan is ‘n biljoenêr. In sy testament staan daar dat sy vrou Riana die geld moet erf wanneer hy doodgaan.  Ongelukkig het sy egbreuk gepleeg en hom vir iemand anders gelos.  Hy het toe met Karen getrou en ‘n ander testament opgestel om te sê dat sý alles moet erf.  Hy het egter vergeet om in die hersiende testament te sê dat hy die vorige een herroep het.  Ná sy dood was daar groot ‘n verwarring.  Riana en Karen het daarop aanspraak gemaak dat die geld hulle s’n is.  Dit was ‘n gemors.

 

Om só ‘n gemors te vermy het die Here eers sy testament met die Jode tot niet gemaak, sodat die testament wat Hy met die kerk gemaak het vas sou wees (Heb.7:12, 8:13, 10:9, 11-12). Die eerste testament met sy tempel, priesterdom en offersisteem moes vernietig word alvorens die Here die nuwe tempel met sy priesterdom en geestelike offers effektief kon bou (1 Pt.2:5, 9).  Dit is eintlik waaroor Op.10 gaan.

 

In hfst.8-9 was daar ses engele wat elkeen op ‘n trompet geblaas het om God se oordele aan te kondig. Voordat die sewende engel in 11:15 op sý trompet geblaas het, het Johannes nog ‘n magtige engel gesien (v.1).  Uit sy beskrywing lyk dit of hierdie engel Eks.3:2 se Engel van die Here is, wat in die brandende bos aan Moses verskyn het.  Ja, die engel of boodskapper [Gk. aggelos] van Op.10:1 was die Here self.  ‘n Vergelyking met die res van die Bybel wys dit vir ons.

 

Hy het in ‘n wolk uit die hemel uit neergedaal, en bene gehad soos kolomme van vuur (v.1, vgl. 1:15, Eks.13:21-22, Dn.10:6). Daar was ‘n reënboog bo sy kop (v.1, vgl. 4:3, Esg.1:26-28).  Sy gesig het soos die son geskyn (v.1, vgl. 1:16, Mt.17:2, Dn.10:6).  Hy het ‘n boekrol in sy hand gehad (v.2, vgl. 5:7).  Die boekrol was oop (v.2, vgl. 5:3-5).  Sy stem het geklink soos ‘n leeu wat brul (v.3, vgl. 5:5, Am.3:8, Hos.11:10).  Dit was soos sewe donderslae (v.3, vgl. Ps.29, Job 37:1-5).  Hy het ‘n boekrol vir Johannes gegee (v.8-10, vgl. Esg.3:1-3).  Soek maar gerus die verwysings op om te sien dat die Engel in Op.10 die Here self is.

 

Wat beteken al hierdie dinge? Die boekrol in sy hand was klein om te wys dat daar nie baie oor was wat vervul moes word nie; die tyd was naby (v.2, 6).  Die boekrol was oop, omdat Hy die seëls gebreek het, sodat die inhoud daarvan vervul kon word (v.2, 6:1-17, 8:1).  Die boekrol was eintlik ‘n testament wat gesê het dat Jesus die erfgenaam van die Koninkryk was; Hy sou die nasies as sy erfdeel verkry het (11:15, Ps.2:8).  Sy voete op die see en die land bevestig dit (v.2, Mt.28:18, Ef.1:22).  Die land en die see is hier ook simbolies van Israel in die Beloofde Land, en die heidene oorkant die see (17:15, Ps.65:8, Jes.17:12-13).  Jesus besit beide.

 

Die sewe donderslae het die storm van God se oordeel oor sy vyande aangekondig (v.3-4). Die Here het vir Johannes gesê om nie die inhoud daarvan neer te skryf nie, maar om dit te verseël (v.4).  Anders as die res van Openbaring, was hierdie dinge nie vir die nabye toekoms bedoel nie (v.6, 1:1, 3, 22:10), maar vir die verre toekoms (v.4, vgl. Dn.8:26, 12:4, 9).  God het besluit dat dit nie vir die kerk nodig was om hierdie dinge te weet nie (Dt.29:29).

 

Die Engel het sy regterhand na die hemel toe uitgestrek en ‘n eed gesweer by Hom wat ewig lewe en alles gemaak het (v.5-6). ‘Kan hierdie Engel dan regtig die Here wees?’ wonder party mense.  Ja.  In Dt.32:40-41 sê die Here:  “Want Ek sal my hand na die hemel ophef en sê:  So waar as Ek ewig leef – as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde.” (sien ook hoe die Here in Heb.6:13-18 by Homself sweer).

 

Wat het die Engel gesweer? God sou nie langer sy oordele oor die kerk se Joodse vervolgers uitgestel het nie (v.6, 6:10-11, Hab.2:3).  Die tyd vir die sewende engel om met trompetgeskal die verwoesting van die tempel aan te kondig was ryp (v.7, 11:1-2, 15, 17-18).  Dis wat die Engel in v.7 met die vervulling van God se geheimenis bedoel het.  Die geheimenis was dat die Here nie meer net die God van die Jode was nie, maar van die Jode en die heidene wat in Jesus glo (v.11, 11:15, Rm.11:25, 16:25-26, Ef.3:3-9, 2:11-22, Kol.1:26-27, Mt.10:5-6, 15:24, 28:19).  Om sy nuwe tempel te bou moes Hy eers die ou een verwoes het.  God het die bou van sy nuwe tempel deur die profete voorspel (v.7, Sg.6:12-13, 15).

 

Die boekrol (v.8-11)

Ek het nog net eenkeer in my lewe ‘n heuningkoek geëet. Ek het nie geweet dat ‘n mens die was moet uitspoeg nie.  Ek het dit ingesluk en ‘n verskriklike maagpyn gekry.  Die heuningkoek was soet in my mond, maar bitter in my maag.

 

En dit is hoe die Woord van God vir Esegiël en Johannes was: soet in die mond, maar bitter in die maag (v.8-10, Esg.3:1-3, 14, Ps.19:11, 119:103).  Wat beteken dit?  Dit was vir hulle ‘n vreugde en ‘n voorreg om die Woord van God te verkondig (Jer.15:16).  Hulle droefheid oor die Jode se sonde was egter soos die bitter pyn op iemand se maag as hy te veel groen perskes geëet het (Jer.15:17).

 

Esegiël het die verwoesting van Jerusalem in 586 v.C. deur die Babiloniërs voorspel, terwyl Johannes die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeine voorspel het. As Esegiël sy boodskap aan die heidene verkondig het, sou hulle geluister het (Esg.3:5-6).  Maar die hardkoppige Jode was nie bereid om na hom te luister nie (Esg.3:7).  So was dit ook in die Nuwe Testament:  die Jode wou nie na God se Woord geluister het nie, en dus het Hy sy boodskappers na die heidene toe gestuur (v.11, 5:9, 7:9, 11:15, Mt.21:43, Hd.13:45-48, 18:5-6, 28:28).

 

Ek het reeds geïmpliseer dat die boek wat Johannes geëet het, die evangelie van die Nuwe Testament was. Dít is die boek wat die wêreld verander het, en nogsteeds besig is om dit te doen.  Soos ek nou-net gewys het, was Israel se ongehoorsaamheid grootliks verantwoordelik hiervoor.  Paulus onderstreep dit:  “Ek vra dan:  Het [Israel] miskien gestruikel om te val?  Nee, stellig nie!  Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom” (Rm.11:12).

 

My en jou bekering is die direkte gevolg van die Jode se ongehoorsaamheid: die evangelie het van hulle af weggedraai na ons toe.  Alhoewel dit nie hulle ongehoorsaamheid verskoon nie, het daar deur hulle verwerping en verharding redding vir die wêreld gekom (Rm.11:12, 15, 25).  Dit is ook die boodskap van Op.10.

 

As die Jode se verwerping dan soveel seën vir die wêreld beteken het, sal hulle bekering in die toekoms sekerlik ‘n herlewing ontketen wat soos ‘n onblusbare vuur oor die aarde versprei.  Is dit nie miskien wat Paulus in Rm.11:12, 15 bedoel het nie?

 

“En as [die Jode se] val die rykdom van die wêreld is en hulle [mislukking] die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! … Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?”

 

En het Jesaja nie gesê “die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” nie (Jes.11:9)?

 

Ons gebede is gans te klein. Wanneer ons bid dink ons net aan vandag, ons eie probleme, en die era waarin ons lewe.  Ons bid selde vir die verspreiding van die evangelie in die wêreld en vir die redding van die geslagte wat nog gebore moet word.  En tog is dit hoe Jesus wil hê ons moet bid:  “laat u koninkryk kom” (Mt.6:10).

 

Ons dink nie genoeg daaraan dat die volgende geslag partykeer eers die vrugte pluk van dit wat ons in gebed gesaai het nie.  William Tyndale is ‘n goeie voorbeeld hiervan.  Hy was verbied om die Bybel in Engels te vertaal, en het met sy lewe geboet.  Sy laaste woorde op die brandstapel was:  ‘Lord, open the king of England’s eyes!’  Die eindste koning Henry VIII wat toegelaat het dat hy verbrand word, het later toestemming gegee dat die Engelse Bybel verkoop en versprei mag word.[1]  Vandag nog eet mense die soet vrugte van Tyndale se vertalingswerk en gebede.

 

Ek wil jou aanspoor om soos hy te bid. Bid vir die verspreiding van die evangelie in ons land.  Bid dat die kerk ‘n effek in die samelewing sal hê.  Bid vir ons regering, sodat ons rustig mag lewe en nie verhinder sal word om die Here te dien nie (1 Tm.2:1-2).  Bid dat jou kinders, kleinkinders en die geslagte wat kom die Here mag ken.

 

Bid dat God se Koninkryk tot aan die eindes van die aarde sal strek: “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Ps.72:8).  Bid dat die Here evangelie-predikers sal opwek en uitstuur (Mt.9:38).  Bid dat die evangelie nie sal uitsterf soos die renosters nie.  Dit kan tog nie gebeur nie.  Jesus se woorde was:  “Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Mt.16:18).

 

Bid dat die Heilige Gees ‘n werk van herlewing sal doen in ons gemeente, land en wêreld. Bid dat Hy ons harte sal deurdrenk soos na ‘n goeie reënbui in die lente.  “Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê:  Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.  Daarom sê Ek vir julle:  Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” (Mk.11:23-24).

 

Ek dink nie Jesus sê letterlik ons moet bid vir die Drakensberge om in die see te spring nie. Dit gaan hier oor die vordering van sy werk.  “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.  Wie is jy, groot berg?  Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word!” (Sg.4:6-7).

 

Ek glo dat Bybelse Christenskap uiteindelik die oorheersende godsdiens in die wêreld sal wees. Jesus en die evangelie sal suksesvol wees.  Charles Spurgeon het gesê:  ‘Oh!  Spirit of God, bring back thy Church to a belief in the gospel! … The Gospel must succeed; it shall succeed; it cannot be prevented from succeeding; a multitude that no man can number must be saved.’[2]

 

Toe Jesus op die aarde was het Hy net ‘n handjievol dissipels gehad. Maar dit het nie so gebly nie.  Die piepklein mosterdsaadjie van die Koninkryk is besig om te groei, sodat dit uiteindelik groter sal wees as enige plant in die tuin van die wêreld (Mt.13:31-32).  William Carey het gesê:  ‘[Christ] must reign, till Satan has not an inch of territory.’[3]

 

Die rots van Christus se Koninkryk het alreeds die magtigste wêreldryke verpletter. Waar is die Babiloniërs?  Waar is die Meders en die Perse?  Waar is Aleksander die Grote?  Waar is die Romeine met hulle keisers?  Hulle het verdwyn soos stof wat deur die wind weggewaai word (Dn.2:35).  Maar Christus se Koninkryk sal groei, sodat dit ‘n berg word wat die hele aarde vul (Dn.2:35, 44-45).

 

Moenie pessimisties wees oor die evangelie nie. Die Heilige Gees het dit op verskillende tye in die kerk se geskiedenis gebruik om lande en kontinente om te keer:  Paulus en die twaalf apostels in die eerste eeu, die Kerkvaders in die eeue wat daarop gevolg het, Luther, Calvyn, Latimer, Tyndale, Knox, Zwingli en ander in die 14de eeu, die Puriteine in die 15de eeu, Whitefield, Wesley en Jonathan Edwards in die 1700’s, Spurgeon in die eeu ná hulle.

 

Hoekom het lande soos Engeland, Amerika en selfs Suid-Afrika vir eeue lank voorspoed en sukses geniet? In sy boek How Christianity Changed the World het Alvin Schmidt onteenseglik bewys dat dit die evangelie was wat die wêreld verander het.  Ek glo dat die klein boekrol van Op.10 in die toekoms nog die wêreld sal verander.

 

Maar vir nou moet ek vra of die Heilige Gees al jou hart deur hierdie boek verander het?  Het die evangelie van Jesus se kruisdood vir sondaars enigsins ‘n verskil gemaak in die manier waarop jy vroue behandel, ander mense in ag neem sodat jy hulle besittings, seksuele reinheid en lewens respekteer?  Het dit ‘n verskil gemaak in hoe jy jou vrou liefhet, jou man respekteer, jou kinders grootmaak, jou ouers gehoorsaam, jou baas en onderwyser eer sodat jy jou werk goed doen?

 

Hoe het dit jou gesindheid teenoor ou mense en kinders, die siekes en die armes beïnvloed? Het dit die manier verander hoe jy dink oor geld en vermaaklikheid en ontspanning?  Watse verskil het dit gemaak in jou houding teenoor die regte van die ongeborenes?  Laat hierdie boek so deel word van jou soos die kos wat jy eet.  Lees dit biddend en met ‘n verwagting dat die Here jou hierdeur sal verander.

 

[1] J.H. Merle D’Aubigné, The Reformation in England, pp.347-349

[2] Aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, p.238

[3] Ibid, p.141

Hoe moet jy reageer op jou redding?

Upstream

As iemand op iets versot is, dan sê ons dat hy dit eet, drink en slaap: sport, karre, tuinmaak, meisies, diere, rekenaars, fietsry, of watookal anders.  Volgens Paulus in Rm.12:1 moet elke Christen die aanbidding van God eet, drink en slaap.  Dit moet vir hom alles wees.  Dit moet die bril wees waardeur hy na die lewe kyk.

 

Verstaan dit

Ek is seker dat baie van my hoorders en lesers die film Fireproof gesien het.  Dit gaan basies oor ‘n huwelik wat uitmekaar uit val.  Die man en vrou baklei aanhoudend.  Die vrou se hart raak koud, sodat sy niks meer vir haar man voel nie.

 

‘n Sekere dokter wat saam met haar by die hospitaal werk wen haar hart deur vriendelik met haar te wees. Hy hoor dat haar ma ‘n beroerte gehad het, en dra dan $300 by vir die spesiale bed en rolstoel wat sy nodig het (die bed en rolstoel kos $24 300).

 

Die ontvangsdame sê vir die vrou dat ‘n sekere man daar aangekom het om hiervoor te betaal. Die vrou neem aan dat dit die dokter is, en sê dan vir hom watse goeie man hy is (vgl. Hos.2:5, 8).  Hy sê vir haar dat dit glad nie moeite was om iemand so spesiaal soos sý te help nie.

 

Êrens in die film kom die man tot bekering. Hy begin om anders teenoor sy vrou op te tree.  Sy merk dit op en weet nie hoekom hy verander het nie.  Hy sê vir haar dat die Here hom gered het, bely dat hy teen haar gesondig het, en vra mooi dat sy hom moet vergewe.  Sy sê dat sy tyd nodig het om daaroor te dink.  En dan kom die keerpunt.

 

Die vrou gaan hospitaal toe om linne vir haar ma se nuwe bed te koop. Die gesprek het so iets geklink:

 

Vrou: Dis net die linne waarvoor die dokter nie betaal het toe hy my ma se nuwe bed en rolstoel gekoop het nie.

 

Ontvangsdame: Die dokter?  Hý het dit nie betaal nie.

 

Vrou: Nee, hy het; ek het met hom daaroor gepraat.

 

Ontvangsdame: Nee, die dokter het net $300 van die totale bedrag betaal.

 

Vrou: Wie het dan die res van die geld gegee?

 

Ontvangsdame: Jou man.  Hy het twee weke gelede gebel en $24 000 betaal (die geld wat hy opgespaar het om vir hom ‘n nuwe boot te koop).

 

Hierdie nuus het die vrou se hart gesmelt. Sy het teruggegaan na haar man toe, en gesê dat sy dinge met hom en met die Here wil regmaak.

 

Toe sy gedink het dat die dokter die geld betaal het, het sy nie in liefde teenoor haar man gereageer nie. Maar toe sy tot die besef kom dat haar man die geld betaal het, het sy in liefde gereageer.

 

Jy moet God se groot ontferming in verlossing verstaan, voordat jy in liefdevolle en dankbare toewyding sal reageer.  Is dit nie wat die ‘dan’ of ‘daarom’ in v.1 beteken nie?  Dit is asof die apostel sê:  ‘Omdat jy dan die verlossing van hfst.1-11 ervaar het, moet jy jouself aan die Here toewy en volgens hfst.12 e.v. lewe.’  Anders gestel:  “Ek vermaan julle… by die ontferminge van God [hfst.1-11], dat julle jul liggame stel [hfst.12-16]…” (v.1).

 

Die persoon wat nie volgens v.1 en die res van hfst.12-16 lewe nie, het nog nie eintlik hfst.1-11 verstaan en ervaar nie. Laat my toe om dit vir jou te verduidelik, sodat jy op ‘n gepaste wyse kan reageer.

 

Alle mense weet dat God die wêreld geskep het (1:20). Olifante en donderstorms bewys sy krag (1:20).  Die uniekheid van die mens is ‘n refleksie van sy beeld (1:20).  Sonskyn en reën wys vir ons dat Hy goed is.  ‘n Swaeltjie se migrasie-sisteem sê vir ons dat Hy wys is.  Die simmetrie van ‘n blaar en die orde van ‘n bye nes wys iets van die Skepper se netheid en orde.

 

Tog lewe mense in afgodery, seksuele wellus, homoseksualiteit, jaloesie, moord, twis, leuens, kwaadpratery, hoogmoed, disrespek vir gesag, roekeloosheid, ontrouheid en baie ander sondes, asof daar nie ‘n God is nie (1:18-32). God se wet en ons gewetens sê vir ons dat dit verkeerd is om so te lewe (2:14-15).

 

Dié wie Bybels het is nie veel beter af nie, want alhoewel hulle God se wil ken, doen hulle dit nie (2:1).  Hulle is skynheilig, omdat hulle vir ander sê om nie te steel en egbreuk te pleeg nie, terwyl hulle dit self doen (2:21-22).  Hulle roem daarin dat hulle moreel en godsdienstig is (2:17-20), maar diep in hulle harte is hulle boos (3:10-18).

 

Omdat ons só teen God gesondig het, verdien ons om geoordeel te word (3:19). Maar uit sy liefde vir sondaars het Hy aarde toe gekom om namens ons die wet volmaak te onderhou, en daarna die straf te kry asof dit Hý is wat hierdie lelike dinge gedoen het (3:25).  A.g.v. ons sonde het die Vader die swaard van sy toorn getrek om die Seun te deurboor (Jes.53:4-6, 10).

 

Sy ontferming oor hulpelose en verlore sondaars het gemaak dat Hy bereid was om bloed te sweet en benoud te wees, om verlaat, gevloek, geslaan, gespot, verneder, gekruisig en gestraf te word. In sy dood was Hy bereid om die beker van God se toorn te drink (die beker wat vir ons bedoel was), sodat Hy aan die kruis uitgeroep het:  “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mt.27:46).

 

In sy groot ontferming het God ons deur geloof in sy Seun regverdig en onskuldig verklaar (3:21-4:25). Op grond van Jesus se kruisdood het Hy ons sonde vergewe, sodat ons nie meer ‘n skuldige rekord voor die Vader het nie.  Hy het ons vrygemaak, sodat die sonde nie meer ons baas is nie (6:1-7:6).  Hy het sy Gees in ons harte gegee, sodat ons nou instaat is om ‘nee’ te sê vir sonde (8:7-9, 13).

 

Die Gees tree ook vir ons in, werk alles uit tot ons voordeel, maak ons soos Jesus, en help ons om die volle skopus van God se verlossing te ervaar: uitverkiesing, voorbeskikking om soos Jesus te wees, roeping, weergeboorte, geloof en bekering, regverdigmaking, aanneming tot kinders, vergifnis, heiligmaking, verheerliking, die ewige lewe (hfst.3-11).  Ons aanbid die God van ontferminge (2 Kor.1:3).  Sy ontferminge, medelye, barmhartighede, goedertierenhede, en deernis is inderdaad oorvloedig, veelvoudig en sonder einde (v.1, Klg.3:22).

 

Leef dit

Toe ek 18 was het ek saam met ‘n Ou Apostel gewerk. Sy het eendag vir my gesê dat die mens se liggaam niks is nie, en dat die siel alleen belangrik is.  Juis daarom het dit vir haar nie saakgemaak of sy rook, vloek, dronk word, en rondslaap nie.

 

Hierdie idee kom van die Grieke af. In hulle gedagtes was die liggaam net ‘n hok waarin die siel vasgevang was.  Wat ‘n mens met die hok doen maak nie saak nie; solank die voëltjie wat binne die hok is mooi sing.  Volgens Paulus is dit nie hoe Christene dink nie.

 

Jesus het gesterf om jou siel en jou liggaam te verlos (v.1-2, 6:12-13, 19, Lk.10:27).  Jou liggaam is nie joune om daarmee te maak wat jy wil nie, maar dit behoort aan die Here (v.1, 1 Kor.6:19-20).  As jy dit vir jouself gebruik, dan steel jy wat geregtiglik aan God behoort.

 

Voorheen het ons ons liggame gebruik om teen die Here te sondig (3:13-18, Sp.6:16-19). Ons tonge het gelieg, gelaster, gevloek, en geskinder.  Ons oë en ore het na lelike dinge gekyk en geluister.  Ons hande het gesteel, geslaan, moord gepleeg, en lelike tekens vir mense gewys.  Ons voete het na plekke toe gehardloop waar ons nie veronderstel was om te wees nie.  Ons het ons liggame gebruik om losbandig en verslaaf te wees.

 

Noudat die Here ons gered het, moet ons ons liggame as ‘n heilige offer voor Hom stel (net soos wat Jesus dit gedoen het, vgl. Heb.10:5). In ons lewe en dood moet ons die Here met ons liggame verheerlik (Fil.1:20).  Ons lippe en tonge moet Hom prys (Heb.13:15), ander bemoedig, die evangelie verkondig, bid, en ander mense opbou.  Ons ore moet na sy Woord luister.

 

Ons oë moet die skepping geniet, sy Woord te lees, en uitkyk vir ander mense se behoeftes. Ons hande moet uitdeel (Heb.13:16) en dié wat swaarkry met deernis aanraak.  Ons voete moet na ons huise, gemeentes, en plekke toe loop waar ons ander kan dien.  Ons liggame moet rein wees en die kos geniet wat die Here vir ons gee.

 

Paulus sê eksplisiet dat ons ons liggame as ‘n lewende offer vir die Here moet gee.  In die Ou Testament moes hulle die dooie offers van skape, bokke en beeste bring.  Jesus het Homself in sy dood aan die Vader geoffer.  Maar Hy het weer opgestaan.  Omdat ons saam met Hom gesterf het en opgewek is (6:3-4, 6, 8), moet ons ons liggame as ‘n lewende offer vir die Here gee (v.1).  Ons moet ons lewens aan Hom wy.  Moet dan nie net ‘n offer vir die Here gee nie, maar wees een.[1]

 

Ek het reeds gesê dat ons liggame ‘n heilige offer moet wees (v.1).  Om heilig te wees beteken dat jy jouself van die wêreld afsonder om vir die Here te lewe (v.2, 1 Jh.2:15-16).  Ons moet anders as die wêreld dink en doen (v.1-2).  Ons moet anders wees in hoe ons mekaar dien (v.3-8), in wat ons haat en liefhet (v.9), in dit waarvoor ons ywerig is (v.11), in die manier waarop ons swaarkry hanteer (v.12), in die wyse waarop ons ons geld en besittings gebruik (v.13), in ons optrede teenoor ons vyande (v.14-21), in ons houding teenoor die regering en die wette wat hulle daarstel (13:1-7), in die manier waarop ons saamwerk met dié wat nie op elke punt met ons saamstem nie (hfst.14-15), ens.

 

Net dié wat só lewe kan vir die Here aanneemlik wees (v.1). Dié wat onheilig is, is vir die Here soos ‘n blinde of ‘n gebreklike lam – Hy soek dit nie.  Hy wil hê dat ons deur Jesus se volmaakte offer gereinig moet wees, en dat ons deur die krag van die Heilige Gees soos Jesus moet lewe (1 Jh.1:7, 2:6).  Soos alles in die skepping, moet ook ons nuwe lewe uit Hom, deur Hom en tot Hom wees (11:36).

 

Om jou liggaam en jou hele self só aan die Here te wy is mos net redelik, rasioneel en logies [v.1, Gk. logikos].  Om in ongehoorsaamheid te lewe nadat die Here jou gered het, is onredelik en ondankbaar.  Volgens die Griekse teks sê Paulus ook dat jy jou liggaam as ‘n ‘geestelike’ offer vir die Here moet gee (in kontras met fisiese offers van die Ou Testament).  Die implikasie is dat jy nie ‘n geestelike lewe en ‘n gewone lewe het nie, en dat Christenskap nie ‘n deel van jou lewe is nie.  Jou hele lewe is geestelik; Christenskap is jou lewe.

 

Dít is ware godsdiens of aanbidding (v.1, Gk. latreia).  Die ware gelowige dien nie maar net die Here vir ‘n uur of twee op ‘n Sondag, of met ‘n tiende van sy inkomste nie.  Vir hom is aanbidding nooit minder as ‘n erediens, die samekoms van die gelowiges, lofgesange, die sakramente of ordinansies, die Woord van God en gebed nie.  Maar dit is baie meer as dit.

 

Sy lewe en alles wat hy het behoort 24 uur per dag, 7 dae ‘n week aan die Here. Alles wat hy doen is godsdiens of aanbidding (v.1).  Sulke alledaagse dinge soos eet en drink doen hy om die Here te verheerlik (1 Kor.10:31).  Hy besef dat ook ‘n eerlike transaksie, goeie maniere op die pad, gehoorsaamheid aan jou ouers, harde werk, vredevolle verhoudings, skottelgoed was en met jou kinders speel aanbidding is.

 

Wel, dit is hoe dit behoort te wees. Dit kan nie anders as ons die ontferminge van God se groot en ryk verlossing verstaan en ervaar het nie (v.1).  ‘Love so amazing, so divine, demands my soul, my life, my all.’ (Isaac Watts).  Saam met Paulus wil ek jou nader roep [Gk. parakaleo], jou smeek, by jou pleit en jou vermaan om jouself en jou liggaam só vir die Here te gee (v.1).

 

Ek het onlangs ‘n bespreking oor die eindtyd op YouTube gekyk. Een van die sprekers het gesê dat hy gedurende sy kinderjare bang was om hemel toe te gaan.  Hy kon hom indink hoe dit sou wees om vir ewig rond te sweef en te sing nie.  Toe ek in matriek was het ek dieselfde vrees gehad.

 

Ek hoop dat Rm.12:1 jou ten minste van drie dinge oortuig het:

 

[1] Dat Jesus ook jou liggaam verlos het, sodat jy nie vir ewig gaan rondsweef nie (vgl. 8:23).

 

[2] Dat jou hele lewe aanbidding is, sodat jy nie net vir ewig gaan sing nie, maar baie ander dinge tot eer van die Here gaan doen.

 

[3] Dat lofsprysing vir jou so natuurlik en spontaan soos asemhaling gaan wees, omdat jy nie anders kán as jy regtig verstaan wat Jesus vir jou gedoen het nie.

 

[1] Stuart Olyott, The Gospel As It Really Is, p.113

’n Partytjie in die hemel

Balloons in sky

Wat maak partytjies lekker? Die mense vir wie jy lief is, is saam met jou.  Almal is gesellig en kuier saam.  Jy eet jou gunsteling kos en lekkernye.  Die persoon wat verjaar kry geskenke, en die ander geniet dit om te gee.

 

Volgens die Bybel is daar ‘n partytjie in die hemel wanneer iemand tot bekering kom (v.7, 10, 24). Het jy al daaraan gedink dat die partytjie nooit ophou nie, omdat daar elke dag êrens in die wêreld iemand tot bekering kom?  Lk.15:11-32 beskryf vir ons hoekom daar soveel blydskap is.

 

Die verlore seun (v.11-20a)

John Welch het in die 16de en 17de eeu in Skotland gelewe. Toe hy ‘n tiener was het hy van die huis af weggeloop en deel geword van ‘n bende.  In die aande het hulle oor die Skotse grens geglip om in Engeland te steel.  So het hy aangehou totdat sy klere vlenters was.

 

Toe hy niks meer oorgehad het nie, het hy besluit om na sy pa toe terug te gaan. Met trane in sy oë het hy voor sy pa gekniel en hom gesmeek om hom te vergewe.  Hy het belowe om ‘n nuwe blaadjie om te slaan, en het gevra of hy sy studies kan voltooi.  ‘As ek droogmaak kan pa my vir ewig onterf,’ het hy gesê.  Sy pa het hom vergewe en daartoe ingestem.  In latere jare het Welch die skoonseun van John Knox geword, en was hy een van die heiligste manne in Skotland.[1]

 

Sulke stories is nie ongewoon nie. Dit gebeur soms dat God ‘n man op die grond moet neerslaan voordat hy tot sy sinne kom (1 Kon.8:47, 2 Kron.33:10-13, Mt.5:3-6).  Dit is wat in v.11-19 met die verlore seun gebeur het.

 

Jesus het vertel van ‘n man wat twee seuns gehad het (v.11). Die jongste seun wou gou ryk geword het sonder om hard te werk.  Gevolglik het hy vir sý derde van die erfporsie gevra (v.12, Dt.21:17).  Sy versoek was disrespekvol, omdat hy daardeur vir sy pa gesê het:  ‘Ek wens pa was al dood.  As ek tussen geld en ‘n verhouding met pa moes kies, dan sou ek geld kies.’  As hy wou, kon sy pa hom onterf het.  Hy het egter vir elke seun sy erfdeel gegee (v.12).

 

‘n Kort tydjie daarna het die jongste seun al sy besittings gevat en van die huis af weggeloop – hy was nie van plan om terug te kom nie (v.13).  Hy het na ‘n ver land toe gegaan (v.13).  Terwyl hy daar was het hy sy besittings verpand en die geld gemors op ‘n lewe van seksuele losbandigheid en dronkenskap (v.13, 30, Gk., Ef.5:18, Tit.1:6, 1 Pt.4:4, 3).  Toe sy geld klaar was het daar ‘n swaar hongersnood oor die land gekom (v.14).  Volgens Jesus het hy begin om gebrek te ly (v.14).  Die implikasie is dat sy nood erger geword het.

 

In sy desperaatheid het die seun by ‘n plaashuis gaan aanklop en gevra vir werk (v.15). Die boer het hom gestuur om sy varke op te pas (v.15).  Vir ‘n Jood is ‘n vark die hoogtepunt van onreinheid (Lv.11:7-8).  Die Rabbi’s het gesê:  ‘Cursed is the man who rears swine.’[2]  Die seun sou egter enigiets gedoen het om te oorleef.  Die carobbeboom peule in die varke se voerbak was semisoet.  Mense het dit net in ekstreme omstandighede geëet, maar in hierdie geval was die seun nie eers toegelaat om dít te eet nie (v.16, vgl. 16:21).

 

Die seun het besef dat hy in ‘n gemors is, en het tot sy sinne gekom (v.17). Omdat sy geld op was kon hy homself nie uithelp nie.  Daar was egter nog een uitweg:  hy kon teruggaan na sy pa toe.  ‘By my pa se huis het selfs die huurslawe genoeg om te eet, en daarom is dit onnodig dat ek van die honger moet omkom,’ het hy gesê (v.17).  ‘As my pa so gaaf is met die huurslawe, wys dit mos dat hy ‘n goeie man is.  Sy behoefte aan ekstra werkers op die plaas wys ook dat hy voorspoedig is, en dat hy genoeg het om vir my te sorg.’

 

Die seun wou nie net kos en ‘n dak oor sy kop gehad het nie, maar het besluit om na sy pa toe terug te keer – die verhouding moes herstel word (v.18).  Hy het ware berou gehad en was gewillig om sy sonde te erken:  ‘Ek het teen die hemel (vgl. Dn.4:26) en teen pa gesondig, en is bereid om my status as ‘n seun te verloor en soos ‘n slaaf behandel te word.’ (v.18-19).  Hy het opgestaan en na sy pa toe teruggekeer (v.20a).

 

Moenie soos die ouer broer dink jy is beter as slegte sondaars nie, maar sien jouself in die verlore seun. Totdat jy dít nie doen nie, kan jy nie gered word nie.  Soos die verlore seun was jy ver van die Vader af (v.13), “sonder hoop en sonder God in die wêreld.” (Ef.2:12).  Miskien is jy nogsteeds in die ver land.  Jy hoop dat rykdom en plesier jou gelukkig sal maak, maar as jy eerlik is moet jy erken dat dit nie die leemte in jou siel gevul het nie (v.13-14, Pd.5:9).  Inteendeel, soos die swaar hongersnood in v.16-17, trek die wêreld en haar sonde jou kaal uit en los dit jou met niks.  Die groener weivelde was toe nie so groen soos wat jy gedink nie.  As jy by die Here gebly het sou Hy jou siel versadig het (v.17).

 

Hoekom wil jy langer vir jou sonde lewe? Dit belowe plesier (v.12), maar diep in jou hart is jy sielsongelukkig (v.13-16).  Dit hoef nie so te wees nie.  In Jesus is daar meer as genoeg om jou siel te versadig (v.17, Jh.6:35).  Pasop egter dat jy nie met ‘n verkeerde motief na Jesus toe kom nie.  Moenie kom net omdat jy wil hê Hy moet jou omstandighede verander nie, maar kom omdat jy ‘n persoonlike verhouding met Hom wil hê (v.18).

 

Hoe kom ‘n mens na Hom toe?  Jy moet erken dat Hy jou niks skuld nie, en dat jy nie waardig is om sy vergifnis te ontvang nie (v.19).  Wees ook bereid om te erken dat jy nie bloot teen mense nie, maar teen Gód gesondig het (v.18).  “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë” (Ps.51:6).  Jy het die asem, tyd, geld, liggaam, en talente wat Hy vir jou gegee het teen Hom gebruik (v.12-13, Dn.5:23).  Moet jouself nie regverdig of die skuld op ander mense en jou omstandighede laai nie.  Iemand wat sy sonde verskoon kan nie gered word nie.

 

Moenie net planne in jou kop te hê nie, maar wees soos die verlore seun wat oorgegaan het tot aksie (v.20a). Baie mense weet dat Jesus die sondelose Seun van God is, dat Hy ons straf op Homself geneem het aan die kruis, dat Hy uit die dood uit opgestaan het, dat ons Hom moet liefhê en ons sonde moet los, en dat dié wat in Hom glo nie hel toe sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.  Hulle dagdroom oor Jesus en die hemel (v.17), maar omdat hulle nie in geloof en bekering reageer nie, bly hulle in die varkhok van hulle sonde (v.16).

 

Die liefdevolle pa (v.20b-24)

‘n Rebelse seun in Wallis het van sy ouerhuis af weggeloop. Sy ouers het nie geweet waar hy is nie.  Op ‘n dag toe kry sy pa ‘n brief in die pos:  ‘Pa, ek het teen pa en ma gesondig.  Ek het tot my sinne gekom en wil graag huistoe kom.  Sal pa my asseblief vergewe? As pa my vergewe, sal pa asseblief ‘n wit sakdoek aan een van die peerbome naby die stasie vasbind?’

 

Toe die trein by die stasie inkom was die seun te bang om te kyk. Hy het nie geweet of sy pa hom sou vergewe nie.  Toe hy uiteindelik opgekyk het, was daar ‘n wit sakdoek aan elke tak in die peerboord.  Sy pa het hom volkome vergewe.  Die pa in Jesus se gelykenis het die verlore seun só vergewe.

 

Uit v.20b lyk dit of die pa gedurig gaan kyk het of sy seun nie dalk huistoe kom nie: “En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.”  Onthou dat ou mans in daardie tyd en kultuur nie sommer vir enige rede hulle rokke opgetel en gehardloop het nie.  Die feit dat hy gehardloop het wys iets van sy gewilligheid om die seun te vergewe.  Sy soene het ook gewys dat hy sy seun hartlik en vrylik vergewe het, en dat hy hom weer as sy kind aangeneem het (2 Sm.14:33).

 

‘Pa, ek het teen die hemel en voor pa gesondig, en is nie werd om pa se seun genoem te word nie,’ het hy gesê (v.21). Hy wóú nog gesê het dat sy pa hom soos ‘n huurslaaf moet behandel, maar sy pa het hom dadelik vergewe en vir die slawe gesê om sy seun as hulle meester te dien (v.22).  Hulle moes dit gou doen en nie wag nie (v.22).  Hulle het vir hom ‘n edelman se kleed aangetrek [Gk. stolē], ‘n ring aan sy vinger gesit om te wys dat hy met sy pa se gesag kon optree (Gn.41:42, Est.3:10), en vir hom skoene aangetrek sodat hy nie kaalvoet in die huis sou rondloop soos ‘n slaaf nie (v.22).  Hulle het ook die vetgemaakte kalf geslag om dit vir die ‘eregas’ voor te sit (v.23).

 

Daar was meer as genoeg rede om fees te vier. Vir alle praktiese doeleindes was die seun dood, maar nou het sy pa hom lewendig teruggekry (v.24).  Sy pa het hom verloor, maar noudat hy terug was het sy pa hom gevind (v.24, 5, 9).  Sy pa het hom nie as ‘n huurslaaf beskou nie (v.19), maar as ‘n seun (v.22), en het hom in ere herstel.

 

Dink reg oor God. As jy ‘n verdraaide beeld van God het, sal jy bang wees en nie na Hom toe wil kom nie.  Hoe moet jy dan oor die Here dink?  Daar is baie mense wat dink:  ‘Ek het te erg gesondig – die Here sal my nie vergewe nie.’  As jy so dink moet jy na die pa in Jesus se gelykenis kyk om ‘n akkurate beeld van God te kry.

 

[1] As jy berou het en vergifnis vra, sal God jou nie aan jou sonde herinner nie (v.21-22). “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Jer.31:34).

 

[2] God is lief vir sondaars en voel jammer vir hulle (v.20, Mt.9:36, Jh.3:16).

 

[3] Daar is ‘n partytjie in die hemel as ‘n sondaar tot bekering kom (v.7, 10, 24-25).

 

[4] God omhels en soen jou nog voordat jy gebad het; terwyl jy in jou sonde is (v.20). Hy “bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rm.5:8).

 

[5] God laat ons nie vir maande in die stof kruip voordat Hy ons red nie, maar hardloop na ons toe en help gou as ons tot Hom uitroep (v.20, 22, Jk.4:8).  ‘Slow are the feet of repentance, swift are the feet of forgiveness.’ (Spurgeon).

 

[6] God se vergifnis is ryk (v.20, 22-24). Dit is groter as ons sonde:  “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rm.5:20).  “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het” (Ef.1:7-8).

 

[7] God trek die vuil klere van ons sonde uit, en beklee ons met die skoon klere van Jesus se volmaakte geregtigheid (v.22, Sg.3:3-5).

 

[8] Ons was geestelik dood, maar God het ons lewend gemaak in Christus (v.24, Kol.2:13). Ons was verlore sondaars, maar God het ons gevind (v.24, 19:10, 1 Pt.2:25).

 

Ons hoef dan nie op ‘n afstand bly nie, maar kan in geloof na ‘n liefdevolle Vader toe kom.

 

Die selfregverdige broer (v.25-32)

In die laat 1700’s was daar ‘n groep liberale predikante in Skotland wat alles in hulle vermoeë gedoen het om sendingwerk in hulle denominasie te stuit. Alexander Carlyle van Inveresk was een van hulle.  Toe hulle by die denominasie se Algemene Vergadering hieroor moes stem, het een van Carlyle se vriende (‘n sekere dr. Jardine) inmekaar gesak.  Hulle het hom uitgedra.  As gevolg hiervan sou die stemming op ‘n latere stadium moes plaasvind.  Carlyle wou egter die saak deurgestem het.  Hy het buitentoe gehardloop, gesien dat Jardine dood is, teruggekom en vir die vergadering gelieg:  ‘Jardine sal binnekort beter wees,’ het hy gesê.  Die vergadering het voortgegaan en gestem.[3]

 

Vir selfregverdige mense is tradisie en hulle eie agendas belangriker as liefde vir God en hulle naaste. Die oudste broer in Jesus se storie is ‘n lewende voorbeeld hiervan.

 

Die oudste seun het ook sy erfdeel ontvang (v.12), en was seker in die veld besig om dit op te pas (v.25). Toe hy by die huis aankom het hy gehoor hoe mense sing en dans (v.25).  ‘Wat gaan hier aan?’ het hy vir een van die slawe gevra (v.26).  Die slaaf het gesê:  ‘Ons hou partytjie, omdat jou verlore broer veilig huistoe gekom het.  Jou pa loop oor van blydskap en het die vetgemaakte kalf geslag’ (v.27).

 

Die oudste seun was woedend en het geweier om in die huis in te gaan (v.28, 2). Sy pa het buitentoe gegaan en mooi met hom gepraat, maar hy wou nie inkom nie (v.28).  Hy het vir sy pa gesê:  ‘Ek dien pa nog al die jare.  Ek was nog nooit ongehoorsaam nie, en het al pa se bevele uitgevoer.  Tog het pa nie eers vir my ‘n jong bokkie gegee om saam met my vriende te braai nie’ (v.29).  Die seun het duidelik nie ‘n verhouding met sy pa gehad nie, maar het hom gesien as ‘n baas vir wie hy moes werk (v.29).  Verder het hy sy pa gedien vir wat hy daaruit kon kry, en nie omdat hy hom liefgehad het nie (v.29).  Hy was selfregverdig en het gedink dat hy nog nooit ongehoorsaam was nie (v.29, kontr. v.21).  Hy het ‘n wrok teen sy pa gehou (v.29).  Hy wou saam met sy vriende gewees het, en nie saam met sy pa nie (v.29).

 

Die oudste broer het nie die verlore seun as sy broer erken nie, maar het van hom gepraat as ‘hierdie seun van pa’ (v.30). ‘Hy het pa se geld op prostitute geblaas.  Pa moet hom straf; nie die vetgemaakte kalf slag nie!’ het hy in effek gesê (v.30).  In sy oë was dit nie net die verlore seun wat skuldig was nie, maar die liefdevolle pa.

 

Die pa was lief vir beide sy seuns en het vir die oudste een gesê: ‘Seun, jy is altyd by my.  Wat myne is is joune.  Moenie jaloers wees en my besittings vir jouself wil hou nie.  Is dit nie gepas om fees te vier as jou broer wat by die dood omgedraai het weer lewe nie; as jou vermiste broer gevind is nie?’ (v.31-32, 2).  Wil jy weet hoe die storie geeïndig het?  Die oudste broer het sy pa vermoor; hy het hom gekruisig.

 

Maak seker dat jy nie soos die oudste broer is nie. ‘n Vuil sondaar wat besef hy is verlore, is beter af as ‘n morele kerkmens wat dink hy het nie genade nodig nie (v.29-30, 18:9-14).  Toets jouself:

 

[1] Voel jy ongemaklik as swart mense, boemelaars, prostitute, en dwelmslawe kerk toe kom, of is jy bly omdat jy wil hulle moet tot bekering kom (v.2, 28-30)?  Het jy al gesê:  ‘As daar swartes in hemel gaan wees, wil ek nie daar wees nie’?

 

[2] Dink jy hoofsaaklik aan God as ‘n meester vir wie jy moet dien, of ‘n Vader met wie jy ‘n verhouding kan hê (v.29)? Hoe sal dié wat jou geken het jou lewe opsom wanneer jy dood is:  ‘Hy het so baie vir die kerk gedoen’ (v.29) of, ‘Sy het naby aan die Here gelewe’?

 

[3] Het jy al ooit besef dat jy ‘n verlore sondaar is wat vergewe moet word? Of dink jy die Here sal jou aanvaar omdat jy sy wet nagekom het (v.29)?  Is Christenskap vir jou iets wat jy vir die Here doen, of iets wat Hy vir jou gedoen het?

 

[4] Kom jy kerk toe omdat jy die Here beter wil ken, of omdat jy by jou vriende wil wees (v.29)? Dien jy Hom omdat jy Hom liefhet, of omdat jy die voordele wat Hy vir jou kan gee soek (v.29)?

 

[5] Dink jy jy is moreel omdat jy nie so sleg is soos ander nie? Of meet jy jouself aan God se standaard, sodat jy besef jy het sy genade en vergifnis nodig (v.29-30, 2)?

 

Ten spyte daarvan dat die oudste broer by die huis was, was hy ook ‘n verlore seun. Besef dan dat dit moontlik is om elke Sondag in die kerk te sit, en nogsteeds ongered te wees.  Jy is nie ‘n Christen omdat jy gedoop is, voorgestel en aangeneem is, in ‘n Christelike huis groot geword het, ‘n ouderling is, of teologie studeer het nie.  Ek gee nie om wie jy is nie:  “as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Jh.3:3).

 

Kom dan in geloof en gebed na die Here toe. Moenie langer op jou morele lewe staatmaak nie.  Dalk is jy uiterlik moreel, maar diep in jou hart weet jy en die Here wat in jou gedagtes aangaan.  Vra dat die Here jou sal vergewe.  Glo die Here se belofte dat net Jesus jou van jou sonde kan red.

 

My vrou en kinders was Donderdag by ‘n Zimbabweër vrou se partytjie. Sy het nog nooit in haar lewe ‘n partytjie gehad nie, en was baie emosioneel oor die vriende, geskenke, eetgoed en kaartjies.  Sommige van my hoorders en lesers het nog nooit tot bekering gekom nie, en het dus nog nooit ‘n geestelike partytjie gehad nie.  Ek hoop dat jy vandag tot bekering sal kom, sodat jóú partytjie in die hemel gevier kan word.

 

[1] John Howie, The Scots Worthies, pp.119-120)

[2] Beale & Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.343

[3] Iain Murray, The Puritan Hope, pp.160-161