Wat jy oor geestelike oorlogvoering moet weet

Spiritual armour

Soos talle gelowiges glo Jane dat sekere mense in die geesteswêreld kan sien, en dat net húlle geestelike oorlogvoering verstaan.  Die res van ons is maar gewone Christene vir wie die Here Ef. 6 gegee het.  ‘n Mens kry die idee dat die Skrif nie genoeg is vir hierdie mense nie, en dat profeet so-en-so uiteindelik die boek geskryf het wat die kerk uit die duisternis van haar onkunde sal bevry.  Maar ware Christene glo dat Ef. 6 se wapenrusting voldoende is.

 

Wat is die wapenrusting? (v.14-17)

Wyle dr. Martin Holdt het vertel dat hy saam met Stuart Olyott in die kar gery het.  Stuart kon na enigiets in die skepping kyk, en dit in ‘n illustrasie verander om een of ander Bybelse waarheid te verduidelik.  Dit het vir Martin verstom.

 

Deur die Gees se werk in Paulus het hy dieselfde vermoë gehad.  Onthou dat hy in die tronk was toe hy Efesiërs geskryf het (v.20).  Dalk het hy by die tronk se venster uitgekyk en gesien hoe die Romeine militêre opleiding ontvang.  Of miskien was hy aan ‘n wag vasgeketting.  Hy het na die soldaat se uitrusting gekyk en dit as ‘n illustrasie gebruik om die wapenrusting van God in Ef. 6:14-17 te verduidelik.  Sy ses beskrywings van die wapenrusting is soos volg.

 

[1] Die gordel van waarheid (v.14a)

Die gordel het die soldaat se kleed bo sy knieë gehou, sodat dit nie afgesak en hom gepootjie het nie.  Die onderkant van sy borsharnas en die swaard se skede is ook aan die gordel vasgemaak.  Die gordel het dus alles bymekaar gehou.

 

Net soos die Messias in Jes. 11:5 die gordel van geregtigheid en trou gedra het, moet ons die gordel van waarheid aantrek (v.14a).  Ons moet die waarheid van God se Woord in Jesus en die evangelie glo (1:13, 4:21).  Ons moet die waarheid praat en daarin lewe (4:15, 25).  Bly weg van leuens af.

 

  • Moenie na vals lering luister nie.
  • Moenie blatant lieg en dit verskoon, omdat dit ‘n wit leuentjie is nie.
  • Moenie jou stories vergroot om dit beter te laat klink nie.
  • Moenie oordryf as jy met jou lewensmaat baklei nie: ‘Jy is nooit by die huis nie… Jy is altyd laat!’
  • Moenie mense vlei en dinge vóór mense sê wat jy nie agter hulle sal sê nie.
  • Moenie skinder en dinge agter mense sê wat jy nie voor hulle sal sê nie.
  • Moenie stilbly as jy die waarheid ken nie; dit is ook lieg.
  • Moenie jou beloftes breek nie.
  • Moenie deur jou lewe lieg omdat jy só is by die huis, maar iemand anders is by die kerk nie.

 

Vul eerder jou hart met die waarheid van God se Woord, want as dit in jou hart is sal dit by jou mond uitkom (Matt. 12:34).

 

[2] Die borsharnas van geregtigheid (v.14b)

Die borsharnas was van metaal skubbe gemaak om die soldaat se hart, longe en ingewande te beskerm.  Volgens Jes. 59:17 het God dit gedra; ons moet dit ook dra (v.14b, 1Tess. 5:8).  Ons moet geregtigheid aantrek en ongeregtigheid vermy (v.14b, 4:24, 1Joh. 5:17).  Leef jy regverdig in jou gedagtelewe, huwelik, gesin, finansies, toewyding aan Jesus en die kerk, op die pad, by die werk, ens.?  As jy onheilig is, is jy kwesbaar en ‘n maklike teiken vir die duiwel.

 

[3] Die skoene van gereedheid (v.15)

Die soldaat se skoene het hom teen dorings en klippe beskerm.  Die spykers onder sy sole het gehelp dat hy vasstaan teen die vyand.[1]  In ons oorlog teen die duiwel moet ons die skoene van gereedheid aantrek (v.15, Jes. 52:7).  Om mense uit Satan se mag te bevry en sy koninkryk af te breek, moet ons gereed wees om die evangelie met ongelowiges te deel (Hand. 26:18, Kol. 1:13, 1Pet. 3:15).  Om die oorlog te wen, moet ons die evangelie van vrede verkondig (v.15, 2:17).

 

Ek glo dat ons oneffektief teen Satan is en dat ons veld verloor het, omdat ons nie die evangelie deel nie.  Weet jy nie hoe nie?  Vertel hoe jy tot bekering gekom het en onthou die volgende vier dinge.

 

  1. God: Hy is heilig.
  2. Die mens: In jou diepste wese is jy ‘n sondaar wat God se heilige standaard oortree het.
  3. Jesus: Hy is die ewige God wat mens geword het om die straf vir ons sonde aan die kruis te dra.  Hy is begrawe en het uit die dood uit opgestaan.
  4. Reaksie: Los jou sonde en glo dat Jesus Christus jou deur sy kruisdood en opstanding daarvan en van God se oordeel kan red.

 

Dalk is jy bang of skaam om die evangelie te deel?  Jesus is met jou (Matt. 28:20).  Moenie skaam wees nie, maar weet dat die Heilige Gees wat in jou woon sterker as die duiwel is (Rom. 1:16, 1Joh. 4:4).

 

[4] Die skild van geloof (v.16a)

As ‘n Romeinse soldaat sy reghoekige skild vasgehou het, was dit net sy kop en skene wat uitgesteek het.  Die weermag het hulle skilde bo, voor, langs en agter hulle gehou, hulle spiese tussendeur gesteek en in formasie gemarsjeer.  Hulle het die skilde met water-deurweekte leer oorgetrek om sodoende die vyand se brandende pyle uit te blus.[2]

 

Ons moet altyd die skild van geloof opneem (v.16a).  Glo in God en moenie aan sy bestaan twyfel nie (Heb. 11:6).  Glo dat Hy ons deur Jesus se kruisdood en opstanding kan red (2:8).  Laat jou geloof uitloop op ‘n lewe van liefde en gebed (1:15, 3:12, 17, Gal. 5:6).  Wees deel van die gemeente sodat ander se geloof jou kan versterk (4:5, 4).  Luister na die lering van die Woord en gebruik jou gawe, sodat jy volwasse kan raak in die geloof (4:13, 11-12).  Onthou dat hierdie geloof van God af kom; vra Hom daarvoor (6:23).

 

Deur geloof erken ons dat ons nie op ons eie kan staan nie, maar dat ons te alle tye die Here nodig het (Joh. 15:5).  Soms glo ons nie dat die Here ons wil of kan help nie.  Ons bid nie, maar betwyfel sy almag, goedheid en getrouheid aan sy beloftes.  Ons stel ons volle vertroue in mense, geld, onsself, ons vermoëns of iets anders.  Die Bybel noem dit afgodery.  As jy in gebed en geloof op die Here staatmaak, sal Hy ‘n skild wees om jou teen Satan en die brandende pyle van sy versoeking te beskerm (v.16a, Gen. 15:1, Ps. 84:12).

 

[5] Die helm van verlossing (v.17a)

Omdat ‘n kopwond dodelik kan wees, het Romeinse soldate helms gedra.  Ons moet die helm van verlossing dra om ons teen Satan se versoeking te beskerm (v.17a).  As jy gered is, wil hy jou oor jou redding laat twyfel.  Hy sal vir jou sê dat jy nie goed genoeg is om hemel toe te gaan nie.  Maar volgens 2:8-9 is jy uit genade gered, en nie deur jou werke nie.  Jy het in Jesus geglo om jou te red en nie in jouself nie (1:13).  Die helm van verlossing kom van Hóm af (Jes. 59:17); jy het dit maar net met die hand van geloof ontvang (v.17a).

 

Moenie vir die duiwel luister nie, maar dank die Here dat hy nie jou redding kan steel nie (Joh. 10:28-29, Rom. 8:38-39).  Leef soos iemand wat gered is en nie onder die heerskappy van sonde en die duiwel is nie.  As jy aanhoudend na die kruis kyk, sal dit jou help om sonde te haat en Jesus lief te hê.  Jy sal heilig lewe en nie val wanneer Satan jou versoek om oor jou redding te twyfel nie (2Pet. 1:5-10).

 

[6] Die swaard van die Gees (v.17b)

Die Romeine se kort tweesnydende swaard was lig en maklik om te hanteer.  In ons stryd teen die duiwel moet ons die swaard van die Gees gebruik.  Dit is die Woord van God waardeur ons gered en gereinig is (v.17b, 1:13, 5:26, Heb. 4:12).  Omdat die Heilige Gees dit geskryf het en dit sy Woord is, is dit foutloos, duidelik, algenoegsaam, betroubaar en kragtig, ‘n swaard wat nie kan stomp word of breek nie (v.17b, Ps. 19:8-10, 2Tim. 3:16, 2Pet. 1:20-21).

 

Om Satan se aanvalle af te weer moet jy die Skrif ken (Matt. 4:1-11).  Wees lief vir die Bybel:  lees dit, memoriseer dit, bestudeer dit, luister na die verkondiging daarvan, oordink dit, gehoorsaam dit.  Lees kommentare, artikels en boeke wat kan help dat jy dit beter verstaan.

 

Vertrou op die Gees deurdat jy jou inname van die Bybel met gebed deurweek.  Wanneer Satan dan met sy vuil kloue aan die deur van jou hart klop, sal die Heilige Gees jou aan spesifieke verse herinner.  As jy egter die Bybel afskeep, sal die Heilige Gees die geroeste kluisdeur van jou geheue oopmaak en vind dat daar nie ‘n swaard is om jou te help nie.

 

Hoe moet jy dit gebruik? (v.18-20)

Ek het ‘n vriend wat ‘n boogjagter is.  Drie weke gelede het hy sy boog vir my gewys.  Vir my het dit moeilik gelyk om te span, en volgens hom raak jou arms moeg as jy dit vir lank so moet hou.  Gestel dat hy vir my nege jarige seun gewys het hoe die boog werk.  As my seun alles verstaan het, sou hy nog steeds nie die boog kon gebruik nie, omdat hy nie genoeg krag het nie.

 

So is dit ook met die wapenrusting.  Al verstaan jy alles, het jy nie die krag om dit op jou eie te gebruik nie:  jy het die Gees nodig.  Hoe kan jy sy krag kry?  Jy moet daarvoor bid.  Gebed is die middel waardeur jy die wapenrusting gebruik en teen versoeking stry (v.18, Matt. 6:13).  Hoe moet jy bid?

 

[1] Bid met alle gebed en smeking (v.18)

Alle gebed verwys na die verskillende soorte gebed.  Bewonder en prys God vir wie Hy is.  Dank Hom vir sy goedheid aan jou.  Bely jou sonde en vra vergifnis vir jou sonde.  Smeek Hom vir jou behoeftes.  Bid vir ander mense volgens húlle behoeftes.  Wy jouself opnuut aan Hom toe.

 

[2] Bid by elke geleentheid (v.18, 1Tess. 5:17)

Bid in die oggend as jy opstaan en in die aand voor jy gaan slaap.  Bid voor jy eet en saam met jou gesin.  Bid as jy ‘n krisis beleef of as jy goeie nuus gekry het.  Bid voor jy kerk toe kom en as jy die nagmaal gebruik.  Bid voor jy met vakansie gaan.  Bid as jy by vriende gekuier het en huiswaarts keer.  Bid as die vyand jou versoek.  Bid as jy gesondig het.  Bid, bid, bid.

 

[3] Bid altyd in die Gees (v.18, Jud. 20)

Dit beteken nie dat jy in tale moet bid nie, aangesien nie almal die gawe het nie (1Kor. 12:10, 30).  Om in die Gees te bid beteken dat jy die Gees-geïnspireerde woorde van die Bybel bid (v.17-18).  Dit beteken dat die Gees die waarheid wat in jou hart is in gebed omskep.  Dit beteken dat jy met die Gees gevul is, sodat jy nie anders kan as om te bid nie (v.18, 5:18).  Dit beteken dat die Heilige Gees jou vir gebed bekragtig en jou gebrekkige gebede help (2:18, Rom. 8:26-27).

 

[4] Waak in gebed (v.18, Matt. 26:41, Kol. 4:2)

Die duiwel sal jou verhinder om te bid.  Hy sal jou ook met dwalende en sondige gedagtes pla terwyl jy bid.  Wees waaksaam.

 

[5] Bid met alle volharding (v.18, Rom. 12:12)

Moenie met ‘n spoed wegtrek en na ‘n paar weke ophou nie; volhard.  Moenie jou gebedslewe versaak nie.  Om sterk te wees in die Here moet jy sterk wees in gebed.  ‘n Biddelose Christen is soos ‘n voël met ‘n gebreekte vlerk:  ‘n maklike teiken vir die duiwel.  Satan skrik nie as jy min bid en dan vir ‘n dag vas omdat jy skuldig voel nie.  Jou gebede moet soos ‘n maraton atleet wees en nie soos ‘n naelloper nie.  Werk aan konstantheid voordat jy aan tyd werk.  As jy vir jare en dekades aanhou, sal jy groot skade aan die duiwel se koninkryk aanrig.

 

[6] Bid vir al die heiliges (v.18)

Niemand kan alleen teen die duiwel stry nie, en daarom moet ons vir mekaar bid.  Bid vir die gelowiges in jou gemeente, asook vir dié wat jy nog nooit gesien het nie (v.18, Kol.1:9, 2:1, 1Pet. 5:8-9).  Bid dat die Here hulle teen die duiwel sal help en beskerm.  Bid elke dag vir ‘n paar gelowiges in die gemeente tot jy deur die lys gebid het.  Sê vir mense as jy vir hulle gebid het:  dit sal hulle bemoedig.

 

[7] Bid vir die prediking (v.19-20, 1Tess. 5:25, 2Tess. 3:1)

Wanneer die Woord gepreek word, wil die duiwel keer dat mense tot bekering kom en groei (Matt. 13:18-22, 2Kor. 4:4).  Hy versoek hulle om te dagdroom, die horlosie dop te hou of te slaap.  Ons moet die duiwel in gebed teenstaan en vir die Here vra om mense se blinde oë en harde harte oop te maak.

 

Bid ook dat die prediker die Woord vreesloos en verstaanbaar sal verkondig (v.19-20, Kol. 4:3-4).  Bid dat hy dapper sal wees en nie sal stilbly omdat hy bang is vir mense nie (v.19-20, Hand. 4:8, 13, 29, 31, 18:9-10, Rom. 1:16, 2Tim. 1:8, 12).  Bid dat hy nie sy eie idees sal preek nie, maar net wat God in die Woord gegee het (v.19).

 

Bid vir hom, omdat die duiwel hom aanhoudend aanval, versoek, vervolg en wil keer dat hy die Woord effektief verkondig (v.20, Rom. 15:30-31, 2Kor. 1:11, 2Tess. 3:2).  Bid dat God hom sal gebruik om Satan se koninkryk te skud en om mense na Homself toe te bring.  Hy is nie ‘n apostel soos Paulus nie, maar soos Paulus is hy geroep om die Here te verteenwoordig (v.20, 2Kor. 5:20).  Bid asb. vir God se werkers op die sendingveld en in die pastorale bediening – hulle het jou gebede nodig.

 

Bid volgens Paulus se lering in v.18-20, asook volgens sy voorbeeld in 1:15-19, 3:14-21 en ander tekste.  Moet asb. nie dink dat dit genoeg is om in jou stiltetyd so te bid nie.  Ef. 6:18-20 is vir ‘n gemeente geskryf, en daarom moet ons hierdie riglyne in die bidure volg.  Dié wat nie by een van die gemeente se bidure is nie, is ongehoorsaam.  Sorg asb. dat jy by ‘n biduur inskakel.  Dit is immers wanneer jy alleen en saam met ander bid dat jy met geestelike oorlogvoering besig is.

 

Dit laat my aan die keer dink toe ‘n Amerikaanse predikant vir Spurgeon gevra het hoekom hy so baie mense vir die Here bereik.  ‘My people pray for me,’ was sy eenvoudige antwoord.[3]  As ons kan leer om te bid, sal ons besef dat gebed die kragstasie agter die res van die wapenrusting is.

 

[1] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Ephesians 6:15

[2] NIV Study Bible, note on Eph. 6:16.  Arthur G. Patzia, New International Biblical Commentary: Ephesians, Colossians, Philemon, Hendrickson Publishers & Paternoster Press, Peabody: Massachusetts, 1984, 1990, bladsy 289

[3] Iain Murray, The Forgotten Spurgeon, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1966, 2002, p.36 n.20

Advertisements

Hoe moet ons vir Suid-Afrika bid?

Heart hands South African flag

Almal praat oor Saterdag 22 April 2017 se gebedsdag in Bloemfontein. Na my mening is die punt nie of jy teologies op dieselfde bladsy is as Angus Buchan nie, maar dat hierdie ‘n uitstekende geleentheid vir die evangelie is.

 

Ek glo dat elke Christen hierdie golf moet ry en vir die wêreld moet vertel dat Jesus gekom het om die probleme in ons land en wêreld op te los. Volgens 1 Tm.2:1-8 is die primêre probleem nie die regering of die ekonomie nie, en is die oplossing nie die Verenigde Nasies, Amerika of die DA nie.  Die probleem is sonde en die oplossing is Jesus wat deur die evangelie sy kinders se gebede beantwoord – so eenvoudig soos dit.

 

Bid vir alle mense (v.1-2)

Ek het jou al in die verlede vertel van ‘n predikant wat in ‘n erediens vir die huidige regering gebid het. Hiervoor het sy gemeente hom afgedank.  Ek het self het al gehoor hoe mense sê dat hulle nie vir Jacob Zuma kan bid nie.

 

Mense wat dít sê vergeet dat hulle voor hulle bekering net so sleg was soos hy (Tit.3:3). Verder maak hulle ook of 1 Tm.2:1-2 nie op hulle van toepassing is nie.  Kom ons bestudeer die verse om te sien wat die Here van ons vereis.

 

1 Timoteus is geskryf om vir ons te wys hoe die gemeente of huishouding van God ordelik moet funksioneer (3:15). Van eerste belang is dat ons ‘n biddende gemeente moet wees (v.1).  Gebed is die kragtige diesel enjin wat elke ander bediening in die gemeente moet dryf.  Volgens Paulus is dit nie opsioneel nie, en daarom vermaan hy Timoteus om dit te doen (v.1).

 

Om reg te bid moes die gelowiges God vir hulle behoeftes gesmeek het (v.1). Deur gebed moes hulle gedurig met Hom gepraat het (v.1).  Hulle moes ingetree het vir ander (v.1).  En laastens moes hulle God vir sy goedheid en sy antwoorde op hulle gebede gedank het (v.1, Ps.50:23).

 

Op hierdie vier maniere moes hulle vir alle mense gebid het (v.1). Paulus verwys nie hier na elke individu nie, maar na alle klasse en nasies (v.2, 7).  Dit sou konings en hoë amptenare soos keiser Nero ingesluit het (v.2, Esr.6:10).  Volgens Jesus se opdrag in Lk.6:27-28 moes die gemeente vir hulle vervolgers gebid het.

 

Hulle moes gebid het dat God die owerhede se harte sou verander, sodat hulle nie meer die kerk vervolg het nie, maar vir hulle vryheid gegee het (v.2, Sp.21:1, Esr.6:22, 7:27). So kon hulle sonder vrees vir vervolging en met toewyding hulle Christenskap uitgeleef het (v.2).  Soos die res van die samelewing sou ook húlle waardig kon lewe, en nie soos misdadigers behandel word nie (v.2).  Selfs die ongelowiges sou die vrugte van die gelowiges se gebede gepluk het, naamlik ‘n stil en rustige lewe (v.2, Jer.29:7).

 

Dit is nie moeilik om te sien hoe ons hierdie verse moet toepas nie.

 

[1] Om as gemeente saam te bid moet vir ons ‘n prioriteit wees soos wat dit vir die vroeë kerk was (v.1, Hd.1:14, 2:42, 4:24, 31, 12:5, 13:3). Vyf tot agt mense by ‘n biduur (uit ‘n gemeente van 75 lidmate) wys vir my dat gebed by ons nie ‘n prioriteit is nie, en dat ons dink ons het nie die Here nodig nie.

 

[2] Ons is geneig om vir onsself te bid en van ander te vergeet. Maar volgens v.1-2 moet ons vir ander bid en vir hulle intree.  Deur jou gebede kan jy mense bevoordeel, soos wat jy ook (al is jy nie eers bewus daarvan nie) deur ander se gebede sekere voorregte geniet.  Wat Thomas Brooks van persoonlike gebed gesê het, geld ook vir gesamentlike gebed:  ‘let not others suffer by your neglect of private prayer!’[1]

 

Laat ons dan leer om in ons stiltetye, bidure en eredienste vir mekaar, ons geestelike leiers, sendelinge, ons familie en vriende, ons kollegas, ongelowiges, ons vyande, die polisie, die stadsraad en die regering te bid (v.1-2).

 

[3] Maar ons gebede moenie net uit versoeke bestaan nie; ons moet ook die Here dank (v.1, Ps.50:23, Ef.5:20, Fil.4:6, 1 Ts.5:18). Paulus bedoel nie dat ons Hom vir ‘n slegte regering moet dank nie, maar dat ons dankbaar moet wees dat daar nog ‘n mate van wet en orde is.  In Suid-Afrika kan ons ook dankbaar wees vir lopende en warm water, paaie en rioolstelsels, godsdiensvryheid, elektrisiteit en meer.

 

[4] Petisies, optogte en stakings gaan nie Suid-Afrika se probleme oplos nie – gebed gaan (v.1-2). As ons geregtigheid wil hê moet ons nie na die regering toe gaan nie, maar na die Here toe:  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die HERE.” (Sp.29:26).

 

Bid vir bekering (v.3-8)

‘n Paar weke gelede het iemand vir my ‘n Whatsapp gestuur en gevra dat ek saam met hom vir Julius Malema se bekering moet bid. Ek wonder of ons regtig glo dat hy tot bekering kan kom?  Glo jy dat Jacob Zuma tot bekering kan kom?

 

As jy in die Ou Testament gelewe het sou dit seker moeilik gewees het om te glo dat konings soos Nebukadnesar en Manasse tot bekering kon kom. Maar hulle het (2 Kron.33, Dn.4).  En uit verse soos 1 Tm.2:1-8 en Op.21:24 weet ons dat daar nóg konings en owerhede is wat tot bekering sal kom.

 

Om so vir die regering en vir alle mense te bid is goed in God se oë (v.1-3). Die vrug van hierdie gebede, naamlik dat mense gered word en Hom aanbid, is ook vir Hom aanneemlik (v.2-4).  Hy is ‘n Verlosser wat wil hê dat alle mense gered moet word en tot ‘n persoonlike kennis van die waarheid moet kom (v.3-4, Jh.3:16, 2 Pt.3:9).

 

‘Maar hoekom kom almal dan nie tot bekering as God hulle redding begeer nie?’ wil iemand weet. ‘En hoe versoen ons dit met die Bybelse lering oor uitverkiesing?’  Aan die een kant kan ons sê dat ‘alle mense’ in v.4 na alle nasies en klasse verwys, en dat God wil hê hulle moet gered word.  Dit verwys nie na elke individu nie.  Dit is hoe v.1-2 en 7 dit verstaan.

 

Maar dan moet ons in dieselfde asem sê dat God nie ‘n plesier in die dood van die goddelose het nie, maar wil hê dat hulle tot bekering moet kom (Esg.18:23, 32). Hy begeer dus regtig mense se redding, en tog red Hy nie almal nie, maar besluit Hy soms om hulle volgens hulle verdiende loon te straf (Rm.9:22).  Ek weet nie presies hoe dit werk nie, en kan maar net sê dat daar in God se gedagtes dinge is wat ons nie verstaan nie (Dt.29:29, Jes.55:8-9).

 

Indien mense tot bekering gaan kom kan dit nie deur die godsdiens van hulle keuse wees nie. Daar is immers net “een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (v.5, vgl. 1:17, Dt.6:4, Jes.44:6, 45:5-6, Jh.17:3, 1 Kor.8:6-8).

 

Hoekom kan ons net deur Jesus na God toe kom (Jh.14:6, Hd.4:12)? Om ‘n dik en ‘n dun tuinslang aan mekaar te koppel, kort jy ‘n middelstuk wat oor beide tuinslange pas.  En vir feilbare mense om in God se heilige teenwoordigheid in te kom, kort jy ‘n Middelaar wat God en mens is, Een wat sy hand aan beide kante kan lê (Job 9:32-33).  Jesus alleen kwalifiseer, omdat net Hy God en mens is (v.5, Jh.1:1, 14).  Ons kan nie deur engele, Maria, die heiliges, die geeste van ons voorvaders, Mohammed of enigiemand anders na God toe kom nie.

 

Jesus is tog ook die enigste Een wat aan die kruis gesterf het om ons na God toe te bring (v.5). In sy groot liefde het Hy besluit om Homself as ‘n losprys vir alle mense gegee (v.6, 1, 7, Mt.20:28).  Die losprys moes gelykstaande wees aan die waarde van ons siele; dus kon Hy dit nie met geld betaal het nie, en moes Hy sy bloed of lewe gegee het (Mt.16:26, 1 Pt.1:18-19).

 

Dalk wonder jy hoekom iemand anders dit nie kon betaal het nie? Die persoon wat die losprys betaal het moes sonder sonde gewees het, want anders sou hy vir sy eie sonde gestraf moes word.  Buitendien kon geen mens die ewige straf vir iemand anders se sonde betaal het nie, wat nog te praat van miljoene mense se sonde?

 

Die Psalmdigter sê: “Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie.” (Ps.49:8-10).

 

Die Een wat dus die losprys betaal het moes so waardevol gewees het soos miljoene mense se siele. Om die ewige straf namens ons te neem moes Hy ook ewig gewees het.  En wie anders kon dit gedoen het behalwe God self?  “Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk” (Ps.49:16).

 

Maar omdat God nie kan sterf nie (1:17, 6:16), moes die Een wat in ons plek gesterf het ook ‘n mens gewees het. Omdat net Jesus God en mens is, kon net Hy die losprys betaal het.  Hierdie getuienis van verlossing het God op die regte tyd bekend gemaak (v.6, Rm.5:6, Gal.4:4, Tit.1:3).  Dit het Hy gedoen deur vir Paulus te kies om ‘n prediker, apostel en leraar van die heidene te wees (v.7, Hd.9:15, 2 Tm.1:11, Tit.1:3).

 

Paulus kon met alle eerlikheid gesê het dat hy dit nie vir homself gekies het nie, maar dat die Here hom daarvoor geroep het (v.7). God het hom gestuur om die waarheid van Jesus en die Christelike geloof aan die heidene te verkondig (v.7).  Alle mense moes die evangelie gehoor het (v.7, 1, 4).

 

Die heidene se bekering was egter nie die einddoel nie – die aanbidding van God was (v.7-8). John Piper sê:  ‘Missions exists because worship doesn’t.’[2]  M.a.w. ons deel die evangelie met mense, sodat hulle gered kan word en die Here kan aanbid.  Oral op die aarde moet mense die Here se Naam grootmaak (v.8, Mal.1:11).  Die mans moet hulle gesinne hierin lei (v.8).  Hulle moet dit nie net op Sondae doen nie, maar ook in die week heilig lewe in hulle verhouding met die Here en met ander mense (v.8, Ps.24:4, Jes.1:15).  Dit help mos nie dat ons vir die land bid, as ons eie harte en dade met sonde besoedel is nie (v.8, Ps.66:18, Jes.59:1-2, Mk.11:25).

 

Voordat jy dan vir die land kan bid, moet jy vir jouself bid. As jy nog dink dat jy hemel toe gaan omdat jy in God glo, opreg is, gedoop is, voorgestel en aangeneem is, en jou bes probeer om volgens die Bybel te lewe, is jy op die verkeerde pad.  Jy vertrou nog op jouself en nie op Jesus nie.

 

Los die dinge waaroor jou gewete jou pla, die sonde waarvoor jy so lief is. Glo God se belofte dat Hy die gratis geskenk van sy verlossing sal gee aan dié wat in sy Seun glo en op Hom vertrou om hulle te red.  Glo dat die Vader sy kruisdood in jou plek sal aanvaar, asook dat Hy ‘n Middelaar is wat gesag het om jou in God se teenwoordigheid in te bring.

 

En as jy besef het hoe verlore jy was en hoe die Here jou gered het (1:13-16), kan jy nie sy verlossing vir jouself hou nie. God se begeerte sal joune word, sodat jy ook passievol is oor die bekering van sondaars.  Jy sal nie iemand uit jou gebede uitsluit nie, maar sal bid dat alle mense gered moet word – ook Jacob Zuma (v.1-8).

 

Jy sal wil hê dat die Here die nasies na Homself toe moet bring. Jy sal ‘n hart hê vir sending en evangelisasie, en jy sal iets daaromtrent doen.  Jy sal bid vir ‘n ware herlewing in Suid-Afrika en die wêreld.  Jy sal nie tevrede wees om net te bid dat die plaasmoorde moet ophou en dat die misdaadsyfer moet afneem nie.  Jou doel is immers nie dat ons ‘n morele land moet word, waarin mense beter lewe maar nogsteeds nie die Here ken nie.  Jou gebed sal eerder wees dat mense tot bekering moet kom, sodat hulle hierdie wonderlike Jesus kan ken.  En nadat jy só gebid het sal jy nie kan stilbly nie, maar vir almal van Jesus vertel.

 

En sal die Here dit nie seën as die kerk só op haar knieë gaan en die evangelie met die wêreld deel nie? Hy het dit in 1860 onder Andrew Murray gedoen.  Voor hierdie datum was Suid-Afrika ‘n geestelike woestyn.  In Calvinia kon Nicolaas Hofmeyr bv. vir 6 jaar nie ‘n enkele persoon by die biduur kry nie.

 

Maar toe die herlewing kom het baie gemeentes bidure gehou, het die evangelie versprei, is daar kerke geplant, en moes die kerkgeboue vergroot word.[3]  En kan die Here dit nie weer doen nie?  Wat die psalmdigter vir Israel gebid het, bid ek ook vir ons land:  “Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?” (Ps.85:7).

 

[1] Thomas Brooks, The Secret Key to Heaven, p.186

[2] John Piper, Let the Nations be Glad, p.17

[3] http://frontline.org.za/index.php?option=com_content&view=article&id=1278:andrew-murray-and-the-1860-revival

Wanneer God bid

jesus-praying

Was jy al ooit in ‘n winkel of ‘n restaurant waar jy kon hoor waaroor die mense langs jou gepraat het? Om dit reg te kry moet jy uitblok wat om jou aangaan.  En so wil ek vra dat jy vir ‘n oomblik die dinge wat jou aandag kan aftrek, sal uitblok.

 

Kom saam met my. Jesus en die elf dissipels het reeds die bovertrek verlaat en was oppad Getsemane toe (14:31).  Maar voor Hy in 18:1 daar aangekom het, het Hy die wonderlike gebed van Jh.17 gebid.  Kom saggies nader en sit jou oor teen die grond om te hoor wat Hy daardie aand gebid het, om te hoor hoe dit klink wanneer God bid.

 

Jesus bid vir Homself (v.1-5)

B.B. Warfield was ‘n Amerikaanse teoloog wat in die 19de en 20ste eeu gelewe het. Hy het van Johannes Calvyn gesê dat geen mens ‘n dieper sin van God gehad het as hý nie.[1]  Sy hoë siening van God se heerlikheid het soos ‘n sterk parfuum deurgekom in sy boeke, lesings en preke.

 

En as dit waar is van Calvyn, hoeveel te meer nie van Jesus nie? Hy self is tog God soos wat die inhoud van hierdie gebed vir ons wys.  Maar die feit dat Hy gebid het, wys vir ons dat Hy ook ‘n mens is.

 

Toe Hy klaar met die dissipels gepraat het, het Hy met die Vader gepraat (v.1). As mens het Hy sy onderdanige afhanklikheid van die Vader erken, en in gebed na die hemel toe opgekyk (v.1, 11:41, Ps.121:1-2, 123:1-2).  Die uur van sy kruisdood het aangebreek (v.1).  Hy het vir die Vader gevra om Hom te verheerlik, sodat Hy die Vader kon verheerlik (v.1).  Deur sy dood aan die kruis sou Hy miljoene sondaars gered het, sodat hulle Hom en die Vader (en ook die Heilige Gees) verheerlik het.

 

Die Vader het aan Hom die gesag gegee om dié mense te red wat Hy voor die skepping van die wêreld as ‘n geskenk aan Hom gegee het (v.2, 6, 9, 24, 6:37, 39, 10:29, 18:9, Ef.1:4, 2 Tm.1:9, Tit.1:1-2). Die ewige lewe wat Hy aan hulle gee is nie die onbewustelike ewige bestaan waarin Buddhiste en Hindoes glo nie.  Dit is eerder ‘n intieme en persoonlike kennis van die enigste ware God en van Jesus Christus wat deur Hom na die aarde toe gestuur is (v.3).

 

Terwyl Hy op die aarde was het Jesus die Vader verheerlik deur die taak te voltooi wat Hy vir Hom gegee het (v.4, 19:30, Fil.2:8). Nou was Hy oppad terug na die Vader toe om die Goddelike heerlikheid te ontvang wat Hy gehad het nog voordat die wêreld bestaan het (v.5, 24, 1:1, Sp.8:30, 22-31, Fil.2:6-7).

 

Dit dui weereens vir ons aan dat Hy volkome God is, omdat God nie sy heerlikheid met enige iemand deel nie (Gn.48:11). Toe Hy dus in v.3 gesê het dat die Vader die enigste ware God is, het Hy nie bedoel dat nie God is nie.  1 Jh.5:20 sê dan vir ons dat Jesus, soos die Vader in Jh.17:3, die ware God en die ewige lewe is.  Jesus se bedoeling is eerder dat die Vader vir Hom die enigste ware God is.  Hy het as mens gepraat toe Hy dit gesê het (vgl. Ef.1:3, 17).

 

Wanneer dit by sy Goddelikheid kom, is Christus se heerlikheid vir ons so belangrik soos die Vader s’n (v.1-5, 24). Ook wanneer ons bid moet niks vir ons belangriker wees as dit nie.  Dit beteken nie dat jy nie vir jou geldsake, huwelik, of jou kind se redding mag bid nie.  Dit beteken egter dat God se heerlikheid ook in hierdie dinge vir jou ‘n prioriteit sal wees.

 

Wyle dr. Martin Holdt het van ‘n man en vrou vertel wat ernstig vir hulle dogter se redding gebid het. Toe daar vir jare niks gebeur het nie, het hulle moedeloos geword en gevas.  Die Here hulle daarvan oortuig dat hulle die verkeerd motief gehad het:  hulle wou hê dat hulle kind gered moet word, sodat sy nie hel toe gaan nie.  Maar eintlik moes hulle gebid het dat die Here haar sou red om Homself daardeur te verheerlik.  Hulle het toe begin om met die regte motief te bid, en ‘n maand daarna het sy tot bekering gekom.

 

Maar wat help dit ons bid as God buitendien in die ewige verlede besluit het wat Hy gaan doen? Dit het nie vir Jesus gekeer nie, omdat Hy geweet het sy Vader gaan hierdie dinge deur gebed tot vervulling bring (v.2, 5, 15, 17, 20-24).  God se soewereiniteit moet ons juis aanspoor om te bid, omdat net Hý dít kan doen wat Hy in sy Woord belowe het (bv. Dn.9:2-3).

 

Jesus bid vir die apostels (v.6-19)

Ouers wat hulle taak ernstig opneem sal alles in hulle vermoë doen om hulle kinders teen slegte invloede te beskerm. Hulle sal hulle kinders leer, waarsku, dissiplineer en liefhê, sodat hulle nie die pad byster raak nie.  Hulle kan dit egter nie waarborg nie.

 

Maar met die Here is dit anders: Hy kan hulle beskerm, sodat nie een van hulle verlore gaan nie.  Hulle mag dalk versoek word en afdwaal, maar omdat Hy in Jh.17 vir hulle gebid het (en volgens Heb.7:25 steeds vir hulle bid) sal hulle nie finaal wegval nie.

 

Terwyl Jesus op die aarde was het Hy die Vader se Naam aan die apostels bekend gemaak (v.6, Mt.13:11). Die Vader het hulle gemaak en aan die Seun gegee om deur die Woord vir Hom te lewe (v.6).  Deur hierdie Woord het hulle geweet dat Hy van die Vader af gekom het, en dat die Vader alles vir Hom gegee het (v.7-8):  hulle (v.6), dié wat in die toekoms gered sou word (v.2, 20, 24), die werk van verlossing (v.4, 18:11), God se woorde (v.8, 12:49-50, 1 Ts.2:13), God se Naam (v.11-12), God se heerlikheid (v.22, 24), alles (v.7, 16:15, 3:35).

 

Omdat die apostels dan aan Hom en die Vader behoort het, het Hy nie vir die ongelowige wêreld gebid nie, maar vir húlle sodat Hy in hulle lewens verheerlik kon word (v.9-10). Hy het vir die Vader gevra om hulle in sy kragtige Naam te bewaar – die Naam wat Hy ook vir die Seun gegee het (v.11, Fil.2:9).  Toe Jesus nog op die aarde was het Hý dit gedoen, sodat nie een van hulle verlore gegaan het nie (v.12, 10:28).  Maar noudat hulle alleen agtergebly het, het Hy vir die Vader gevra om dit te doen (v.11).  So sou hulle as ‘n eenheid tot in die hemel gekom het, net soos wat Hy en die Vader een was (v.11).

 

Judas was die enigste een wat uit die groep uit weggeval het (v.12). Hy was nie een van dié wat die Vader aan die Seun gegee het nie (v.6, 9).  Hy was die seun van die verderf wat aan die duiwel behoort het en in sy diens gestaan het (v.12, 6:70-71, 12:4-6, 13:2, 27, 2 Ts.2:3).  Hy was oppad hel toe (v.12, Hd.1:25).

 

Hy was soos ‘n vlooi op die Leeu se rug: hy het gekies waar hy wou loop – niemand het hom gedwing nie.  Maar met die vlooi op sy rug het die Leeu in die rigting geloop wat Hy van ewigheid af besluit en voorspel het (v.12, 13:18, Ef.1:11).  Die vlooi het nou wel sy bose planne uitgevoer, maar hy kon nie die Leeu se planne omverwerp nie (Lk.22:22, Hd.2:23, 4:27-28, Job 42:2, Jes.46:9-10, Dn.4:35).

 

Die ander elf apostels was nie soos Judas nie. Hulle het Jesus se lering in hulle harte ontvang, en daarom ook sy volkome blydskap ervaar (v.13-14).  Omdat hulle soos Jesus anders was, het die wêreld hulle gehaat (v.14, 15:18-19, 1 Pt.4:3-4).  Jesus het egter nie gebid dat die Vader hulle uit die wêreld moes wegneem nie – dit was nog nie die regte tyd nie – maar dat Hy hulle van die Bose moes bewaar (v.15, Mt.6:13, Lk.22:31-32).

 

Die dissipels was dan in die wêreld (v.15), maar soos Jesus was hulle nie van die wêreld nie (v.16).  Hulle het aan Christus behoort:  Hy het hulle afgesonder om die waarheid van God se Woord te doen en aan die wêreld te verkondig (v.17-18, 1:1, 14, 14:6, 20:21, Mt.28:19).  Hy het Homself eers aan die kruis afgesonder, sodat Hy húlle daardeur kon afsonder om vir Hom te leef en die evangelie te verkondig (v.19, 1 Kor.1:2, 30, 6:11, Tit.2:14, Heb.10:10).

 

Jesus bid vir die kerk (v.20-26)

Ek het al by verskeie geleenthede dié aanhaling van Robert Murray McCheyne gebruik. Omdat dit so goed is, neem ek vrymoedigheid om dit weer te gebruik.  Hy het gesê:  ‘If I could hear Christ praying for me in the next room, I would not fear a million of enemies.  Yet the distance makes no difference.  He is praying for me.’[2]

 

En so maak die verloop van tyd ook nie ‘n verskil nie. Jesus het nou wel 2000 jaar gelede hierdie gebed gebid, maar die effek daarvan ervaar ons vandag nog in ons lewens.  Volgens v.20 het Jesus nie net vir die apostels gebid nie, maar ook vir dié wat in die toekoms deur hulle Woord in Jesus sou glo (v.20, 18-19, Rm.10:14).  Maak dit jou nie dankaar dat Jesus eeue tevore al vir jou redding gebid het nie?

 

En moet ons nie dieselfde doen nie? Laat ons bid, nie net vir ons kinders en kleinkinders nie, maar ook vir húlle agterkleinkinders en vir dié wat oor 250 jaar van nou af gebore sal word.  Ek dink nie ons besef eintlik watse effek ons voorvaders se gebede op ons gehad het, en watse effek ons gebede op Suid-Afrika en die wêreld in die jaar 2450 sal hê nie.

 

Soos wat die Ou Testament gelowiges vir 4000 jaar gebid het dat die Messias moet kom, is elke gebed wat ons bid nóg ‘n druppel in die emmer. Een druppel is nie baie nie, maar kan jy jou indink watse effek dit op die toekoms sal hê as tienduisende van die emmers wat in God se troonkamer staan vol is (Op.5:8, 8:3-5)?

 

Kyk maar na die effek van dit wat Jesus in Jh.17 gebid het. Hy het gebid dat die kerk een sal wees soos wat Hy en die Vader een is (v.21, 10:30, Ef.4:4-6, 1 Jh.1:3).  Die wêreld sien die verskillende denominasies en sê dat Jesus se gebede nie beantwoord is nie.  Hulle sien hoe kerke skeur, en sê dan dat Jesus se gebede misluk het.

 

Maar hulle kyk mis hoe die Vader reeds Jesus se gebede begin beantwoord het. Waar het jy al ooit van ‘n godsdiens of ‘n sosiale klub gehoor wat mense uit soveel verskillende agtergronde en kulture in een liggaam kan saambring?

 

Die Moslems sê dat húlle een is, en dat die Chrístene verdeeld is. Maar dit is húlle wat kort na hulle ontstaan in die Sunni en Shia faksies verdeel het, en nogsteeds onder mekaar veg tot die dood toe.  Dit is in Moslem state wat radikale groepe hulle eie mense doodmaak.

 

In die Christelike kerk omhels ons dié wat die Here Jesus en sy evangelie liefhet, al stem hulle nie met ons saam oor die uitverkiesing, die geestelike gawes of die doop nie. En dit is hierdie eenheid wat vir die wêreld wys dat Jesus die Seun van God is, en dat ons sy kinders is (v.21, 13:34-35).

 

Die wêreld het vergeet dat Jesus se gebed nog nie finaal beantwoord is nie, maar dat die Vader nog besig is om hierdie eenheid te bewerk.  Hy is besig om Christus se heerlike beeld in ons te vorm (v.22, 2 Kor.3:18, Kol.1:27).

 

Omdat almal van ons dan meer en meer soos Hý word, lyk ons ook meer na mekaar (v.22). Ons is soos troepe in ‘n weermag, waarvan almal eenders lyk.  Wanneer Jesus kom gaan ons almal soos Hý lyk (1 Jh.3:2).  Dán sal ons volmaak een wees soos wat die Vader en die Seun een is (v.22-23).

 

Hierdie eenheid bestaan nie net tussen ons en ander gelowiges nie, maar ook tussen ons en die Here. Deur die Gees wat in ons woon is ons reeds een met die Vader en die Seun (14:21, 23, Mt.28:19, 2 Pt.1:4).

 

Maar wanneer die Here kom sal ons volmaak een wees met Hom (v.23). Ons eenheid met mekaar is eintlik gebasseer op ons eenheid met Hom.  As ‘n huwelik, gesin, familie of gemeente dan verdeeld is, wys dit dat een of meer van die partye nie in ‘n nabye eenheid met die Here lewe nie.

 

Ek hoop dat dit jou help om te sien hoekom die wêreld se beskouing van Jesus tot ‘n groot mate van ons eenheid met mekaar afhang (v.23).  Die beeld wat hulle van God se liefde het kry hulle deur te kyk na hoe ons mekaar liefhet, net soos wat ‘n kind se gedrag vir jou iets van sy ouers sê (v.23).  Waar gemeentes en individuele Christene verdeeld is, is hulle soos ‘n Hollywood film wat die Here se Naam as ‘n vloekwoord gebruik.

 

Wanneer ek aan hierdie dinge dink, verlang ek daarna om by Jesus te wees. As ons eers in die hemel is, gaan ons eie belange en agendas nie meer vir ons belangrik wees nie.  Al wat vir ons gaan saakmaak is om die Vader en die Seun se wonderbare heerlikheid en ewige liefde te sien en te geniet (v.23-24, 5, Jer.31:3, Rm.9:23, Ef.1:4, 1 Pt.1:20).  Kan jy jou indink hoe dit moet wees om in ‘n wêreld van verwondering en liefde te lewe?

 

Ongelukkig is hierdie wêreld nie vir almal bedoel nie. Dit is net vir dié wat die Here ken en wat glo dat die Vader vir Jesus na die wêreld toe gestuur het om sondaars te red (v.25, 3, 3:16-17).  As jy Hom nie ken nie moet jy jousélf kwalik neem.  Jy het geweet dat Hy goed is en dat Hy bereid was om jou te red.

 

As jy jou sonde los en in geloof na Hom toe draai, sal Hy die Vader aan jou hart bekend maak en kan jy nóú al sy Goddelike liefde ervaar en geniet (v.26, 6, Eks.34:5-7, Lk.10:21-22, Rm.5:5, Heb.2:12). As jy Hom egter verwerp sal jy na ‘n wêreld toe gaan waar dit vir ewig nag is, waar mense en duiwels mekaar haat.

 

Ek hoop nie dat enige van my lesers of hoorders na daardie plek toe sal gaan nie. Ek hoop eerder dat jy mooi sal luister en sal sê:  ‘Shhh!  Dit klink of Jesus my naam bid.  Dit is my naam wat ek daar hoor!  Ek weet wat ek sal doen:  ek sal opstaan, my sonde los en terugkeer na my Vader toe.’

 

[1] B.B. Warfield, Calvin and Augustine, p.24

[2] Alexander Smellie, Biography of R.M. McCheyne: A burning light, p.128

Die blydskap en vrede wat Jesus gee

peaceful

‘n Maand nadat ek klaar gemaak het met skool, het ek by die WIMPY gewerk. Die baas se humeur was so wispelturig en onstabiel soos Kaapstad se weer.  Ek onthou hoe hy een oggend by die restaurant aangekom het en ‘n vrolike deuntjie gefluit het.  Hy het gesien dat iemand by die winkel ingebreek het, en het soos ‘n matroos gevloek.  Sy vrede en blydskap het van die omstandighede afgehang.  Volgens Jh.16:16-33 hoef dit nie so te wees vir Jesus se dissipels nie.

 

Blydskap (v.16-24)

Ek het ‘n dokumentêr oor die blouwildebeeste se migrasie in die Serengeti gekyk. Die film het gewys hoe die Serengeti in die droëseisoen aan die brand slaan, asook hoe die vulkansiese Ol Doinyo berg ontplof en sy as oor die vlaktes strooi.  Aanvanklik is beide rampe nadelig vir die natuur.  Maar in die langduur stel dit sekere minerale in die grond vry, sodat die gras beter kan groei.

 

En so het Jesus se kruisdood en hemelvaart vir die dissipels gelyk of dit nadelig is. Maar die voordele wat daaruit voortgekom het, het vir hulle groot blydskap gebring.  Dit is wat Jesus in v.16-24 vir hulle verduidelik het.

 

Hy het vir die dissipels gesê: “‘n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer ‘n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan.” (v.16).  Wat het Hy bedoel?  Dit was maar ‘n paar ure voordat Hy gekruisig sou word en die dissipels Hom nie meer sou sien nie.  Maar na sy kruisdood was dit ‘n kort tydjie voordat hulle weer die lewende Christus gesien het.

 

Na 40 dae sou Hy teruggekeer het na die Vader toe, sodat hulle Hom nie meer gesien het nie. Maar kort daarna sou Hy die Gees op hulle uitgestort het, sodat sy werke deur die Heilige Gees sigbaar geword het.  En dan sou almal van hulle voor die einde van die eerste eeu in die hemel gewees het, en weer vir Jesus gesien het.

 

Die dissipels het nie verstaan wat Hy bedoel het nie; hulle was te bang om Hom hieroor te vra. In ‘n sekere sin wou hulle nie verstaan het dat Hy oppad was na die Vader toe nie – dit was vir hulle te hartseer (v.6, 14:1, 28).  Hulle het besluit om dit onder hulleself te bespreek (v.17, Lk.9:44-45, 18:31-34).    ‘Hoe lank is ‘n klein tydjie?’ het hulle gewonder (v.18).

 

‘Ek weet wat julle bespreek’ het Jesus in effek vir hulle gesê (v.19). ‘Julle is verward en bekommerd, omdat julle nie weet Ek bedoel het nie.  Wat beteken dit toe Ek gesê het dat julle My oor ‘n klein rukkie nie meer sal sien nie, en dan oor ‘n klein rukkie weer sal sien?’ (v.19).

 

Die dissipels sou oor die kruis getreur het (v.20, 20:11, 13, 19, 24-25, Mk.16:10, Lk.23:27, 48-49, 24:17), maar in hulle haat vir Jesus sou die wêreld hulle hierin verbly het (v.20, 7:7, 15:18, Mt.27:22-23, 25, 27-30, 35-44, 47, Lk.22:63-65). Die dissipels se droefheid sou egter in blydskap verander het, omdat Jesus uit die dood uit sou opstaan (v.20, 20:20, 21:7, Mt.28:7-10, Lk.24:31-35, Jer.31:13).

 

Hulle sou soos ‘n vrou in ARWYP se kraamsaal gewees het: die kraam- en geboortepyne is erg, maar wanneer die kind ‘n kort tydjie later gebore word, onthou sy nie eers die pyn nie (v.21).  Die nuwe klein mensie wat in die wêreld ingekom het, het die ma se pyn in blydskap laat verander (v.21).

 

Net so oortref die blydskap van nuwe lewe deur Jesus se opstanding die droefheid van die kruis (v.21-22, Jes.26:16-21). Niemand kon hierdie blydskap by die dissipels gesteel het nie, omdat dit in die lewende Christus gegrond was, en nie in hulle omstandighede nie (v.22).  Nie eers vervolging kon die vuur van blydskap in hulle harte geblus het nie (Hd.5:41, 16:25, 2 Kor.6:10, Fil.4:4).

 

Op die dag waarin Jesus die Heilige Gees en sy blydskap aan die dissipels gegee het, sou hulle nie meer verward gewees het en vrae gevra het nie (v.23). Hy het juis die Gees na hulle toe gestuur om hulle alles te leer (v.12-13).  As hulle iets wou geweet het, kon hulle Hom in gebed gevra het (v.23).  En wat hulle in sy Naam gevra het, sou die Vader vir hulle gegee het (v.23).  Tot op daardie stadium het hulle nie iets in sy Naam gevra nie, omdat Hy by hulle was en hulle Hom direk kon vra (v.24).  Maar nou moes hulle in sy Naam gebid het, sodat hulle deur hulle gemeenskap met Hom en sy antwoorde op hulle gebede, blydskap kon hê (v.24, 15:11).

 

Dit geld ook vir ons. In Christus kan ons ‘n blydskap hê wat bo ons omstandighede uitstyg.  Dit is ‘n blydskap wat die Heilige Gees vir ons gee (Hd.8:8, 13:52, Rm.15:13), ‘n blydskap wat niemand kan steel nie (v.22).  Om dit weg te vat moet die duiwel en mense die Here by jou kan wegvat, en dit kan nie gebeur nie.  Sonde kan maak dat jou blydskap vir ‘n tyd lank verdwyn.  Maar dan sal die Here jou tugtig, sodat jy jou kan bekeer en vergewe word, en jy weer die vreugde van sy verlossing kan ervaar (Ps.51:14).

 

Hoe kan jy hierdie blydskap behou? Heel eerste moet jy seker maak dat jy nie soos ‘n vrou is wat met ‘n man trou omdat hy geld het, of ‘n man wat met ‘n vrou trou omdat sy goed gebou is nie.  Moenie na Jesus toe kom vir die vreugde wat jy by Hom kan kry nie; moet Hom nie soos ‘n anti-depressant gebruik nie.  As jou groot doel is om blydskap te hê, sal jy dit nie kry nie.  Maar as dit jou doel is om in ‘n nabye verhouding met Jesus te lewe, sal blydskap deel van die pakket wees (v.24, 15:11).

 

Moet daarom nie alewig probeer om in jou hart te kyk of daar blydskap is nie. Om te veel introspeksie of selfondersoek te doen is nie goed nie, omdat jy dan op jouself fokus en nie op Jesus nie.

 

C.S. Lewis het gesê dat ons eerder deur geloof na die objek van ons blydskap moet kyk. As jy bv. na ‘n waterval kyk (het hy gesê) dan geniet jy dit en bring dit vir jou blydskap.  Maar sodra jy op die blydskap fokus om te sien of dit eg is en jy nie meer na die waterval kyk nie, dan verdwyn die blydskap.

 

En so is dit ook in ons verhouding met Jesus. Kyk na Hom en moenie ‘n obsessie met sy blydskap hê, sodat jy eintlik op jouself en jou gevoelens fokus nie.

 

As Hý jou fokus is sal jy met Hom aanhou, selfs wanneer jy nie op die bergtop is nie. En as jy só lewe is dit ook waar dat jy nie vir lank in die donker vallei sal wees nie.  Hy sal jou uitbring, sodat die son van sy blydskap op jou sal skyn.

 

Om gedurig hierdie blydskap te geniet moet jy in gemeenskap met die Here lewe (v.24). Maar om net die Bybel te lees is nie genoeg nie.  Iemand kan elke 6 maande deur die Bybel lees en nie die Here se blydskap ervaar nie, omdat hy dit bloot as ‘n literêre werk bewonder, en nie as ‘n liefdesbrief van sy Vader af nie.  Hy leef nie in ‘n verhouding met die Here nie.  Daarom moet hy die Woord in sy hart bêre en dit gehoorsaam (15:7-11).

 

Dit is ook nie genoeg om net te bid nie. Sommige mense bid baie, maar ervaar nie die Here se blydskap nie.  En hulle sal ook nie, omdat Hy nie hulle gebede beantwoord nie.  Hy antwoord nie hulle gebede nie, omdat hulle nie in sy Naam bid nie (v.23-24).

 

Wat beteken dit om in sy Naam te bid? Dit beteken dat jy besef die Vader sal jou verhoor omdat Jesus in jou plek staan, en nie omdat jy opreg was, lank genoeg gebid het, gevas het, tien mense gekry het om saam te stem, genoeg geglo het, dit uitgespreek het, of vir ‘n maand lank opgehou rook het en dit nou ‘pay back time’ is nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken ook dat jy nie vir dinge bid waarvoor Hý nie sou bid nie. Daarom moet jy vir die dinge bid wat Hy in die Bybel belowe het.  En as jy hiervoor bid, sal jy ontvang en sal jou blydskap volkome wees (v.24).  Jy sal bly wees omdat Hy so vrygewig is, en nie omdat jy ‘n nuwe speelding gekry het nie.  Jy mag vir dinge bid wat nie in Bybel staan nie, solank dit net nie teen die Bybel is nie.  Maar in sulke gevalle moet jy sê:  ‘Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.’ (Mt.26:39).

 

Vrede (v.25-33)

Toe ek uit Jh.13 oor Judas gepreek het, het ek van James Bainham vertel. Vandag wil ek iets byvoeg wat ek nie tóé gesê het nie.  Die Katolieke owerhede het vir Bainham met ‘n ketting aan die brandstapel vasgemaak.  Die stadsklerk het vir die laksman gesê om die biskruit aan die brand te steek.  Die vlam het baie gou nader gekom en binne ‘n paar minute die slagoffer se arms en bene weggebrand.

 

Bainham het egter aan sy Verlosser gedink en uitgeroep: ‘Behold! You look for miracles, you may see one here; for in this fire I feel no more pain than if I were on a bed of down [Afr. donsvere], but it is to me as sweet as a bed of roses.’[1]  Bainham het die Here se vrede in sy hart gehad, ‘n vrede wat Hy aan al sy kinders belowe het.

 

In hfst.14-16, asook in die res van sy lering het Jesus beeldspraak gebruik (v.25, 21, 15:1-8, Mt.13:10-17). Die dissipels het dit nie verstaan nie (2:22, 12:16, 13:7, Mt.13:36), maar deur die Gees sou Hy die Vader aan hulle mistige harte en gedagtes geopenbaar het (v.25, 12-13).  Om die Vader beter te ken kon hulle in Jesus se Naam met Hom gepraat het (v.26).  Dit was nie nodig dat Hy namens hulle moes vra omdat die Vader hulle vir onthalwe verdra het, soos wat ‘n vrou haar skoondogter vir haar seun se onthalwe verdra nie (v.26).

 

Nee, maar die Vader self het hulle liefgehad, en daarom kon hulle met vrymoedigheid na Hom toe gekom het (v.27, 3:16).  Hy het ‘n spesiale liefde vir dié wat glo dat Jesus van die Vader af gekom het, net soos wat ‘n man liewer is vir sy eie vrou en kinders as vir ander mense s’n (v.27-28, 14:21, 23).

 

‘Nóú verstaan ons U!’ het die dissipels vir Hom gesê (v.29). ‘Dit is beter as U nie in beelde praat nie, maar eenvoudige taal gebruik (v.29).  U voorspelling oor U toekoms by die Vader gee vir ons die versekering dat U alles weet, en dat U daarom regtig van God af kom (v.30, 13:19, 16:4, 21:17, 2:24-25, Jes.41:23, 42:9).  En as U alles weet hoef ons U nie te bevraagteken nie (v.30).’  Só moet ons die dissipels se woorde in v.29-30 verstaan.

 

Die dissipels het gedink dat dit nie meer nodig was om vrae te vra nie, omdat hulle Jesus se lering verstaan het (v.23, 29-30).  Jesus het egter vir hulle gewys dat hulle te vinnig gepraat het.  ‘Is julle seker dat julle nou in My glo?’ het Hy in v.31 vir hulle gevra.  ‘Die uur is hier dat almal van julle My gaan verlaat om in julle huise weg te kruip.  Julle sal soos skape uitmekaar spat wanneer die wolwe op hulle afstorm (v.32, Sg.13:7, Mt.26:31).’  Duidelik was hulle geloof in Jesus nie so sterk soos wat hulle gedink het nie.

 

Maar al het hulle Hom ook alleen gelos was Hy nie heeltemal alleen nie, omdat sy Vader met Hom was (v.32, 8:29). Die Vader sou vir ‘n tydjie sy guns onttrek het (Mt.27:46), maar aan die einde van sy lewe het Jesus gebid en gesê:  “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Lk.23:46).  Jesus het dan nie gejok toe Hy gesê het dat die Vader by Hom was nie.

 

En soos wat die Vader aan die einde van alles sy vrede aan Hóm gegee het, gee Hy dit ook aan ons (v.33, 14:27). Ons het dit veral nodig as ons in ‘n situasie soos die dissipels s’n is, waarin dit vir ons voel of die Here ons verlaat het (13:36).  Ons het dit nodig wanneer ons verward is en nie weet wat die Here besig is om te doen nie (v.19).  Ons het dit nodig wanneer die toekoms bleker lyk as wat ons besef het (v.32).  Ons het dit nodig wanneer ons diep bedroef is (v.6, 20).

 

Hoe kan ons in hierdie tye die Here se vrede ervaar? Om die vrede van God te hê, moet jy eers vrede met Hom hê.  En dit kan jy net kry as Hy die sonde wat verdeeldheid tussen jou en Hom gebring het, vergewe.  Hoe kan jou sonde vergewe word?  Hoe kan Hy jou sondeskuld afgeskryf?

 

Jesus het aan die kruis gesterf en sy Vader se straf oor ons sonde geabsorbeer, soos wat droë grond water absorbeer. As jy op Jesus vertrou om jou te red en in Hom glo, sal die Vader sy kruisdood in jou plek aanvaar en jou sonde afskryf.

 

Maar omdat daar nou vrede tussen jou en God is, sal die wêreld jou haat (15:18-21). Ons kan sê dat die wêreld se vervolging ‘n gegewe is (v.33, Hd.14:22).  Maar ons kan ook sê dat die vrede van God in ons harte ‘n gegewe is (v.33).  Ons hoef dan nie bang te wees as die wêreld probeer om die Christelike geloof soos ‘n kers dood te blaas nie.  Jesus het die wêreld deur sy kruisdood en opstanding oorwin, en daarom kan die wêreld nie suksesvol wees nie (v.33).

 

Omdat ons in Jesus glo is sý oorwinning oor die wêreld ook óns s’n (Rm.8:37, 1 Kor.15:57, 1 Jh.5:4-5, Op.3:21, 12:11). Dit beteken dat die wêreld ons nie by die Here kan wegvat, of ons erfdeel in die hemel kan steel nie.  Hoe sal hulle dit regkry as die Oorwinnaar, die Here, aan ons kant is (Rm.8:31)?

 

En tog kom die Here se vrede nie outomaties na ons harte toe nie. Ons moet die middele gebruik wat Hy tot ons beskikking gestel het:

 

  • Bid en wees dankbaar (Fil.4:6-7, 2 Ts.3:16, 1 Pt.5:7).
  • Leef in vrede met ander mense (Ef.4:3, Kol.3:15, Heb.12:14).
  • Wees lief vir die Woord en word met die Gees gevul (Ps.119:165, Gal.5:22).
  • Bewaar jou gedagtes en dink reg (Rm.8:6).
  • Bely jou sonde en bekeer jou daarvan (Rm.5:1, Kol.1:20).

 

Kan ek jou reguit vra of jy hierdie vrede het? Nee? Hoekom nie? Is dit omdat jy nog ongered is? Toe my swaer tot bekering gekom het, het hy gesê dat dit vir hom gevoel het soos ‘n las wat van sy skouers afval. Hy het vrede gehad, en jy kan dit ook hê as jy na Jesus toe kom.

 

Is jy gelowige wat nie die Here se vrede in jou hart ervaar nie? Is dit omdat jy nie jou probleme in gebed na die Here toe vat nie? Skeep jy miskien die Bybel af? Is daar ‘n sonde wat jou gewete pla? Moet jy miskien vrede maak met iemand? Maak reg wat verkeerd is.

 

As jy dít gedoen het sal jy nie net vrede hê nie, maar ook blydskap. “those who plan peace have joy.” (Sp.12:20, ESV).

 

[1] J.H. Merle d’Aubigne, The Reformation in England: vol.1, p.101

‘n Gebed vir 2017

prayer-focus-for-2017

Oor die afgelope klomp jare het ek my voornemens vir die nuwe jaar in gebedsversoeke verander. Vandat ek dít begin doen het, het die Here my nog elke keer gehelp om dit suksesvol uit te voer.  2 Ts.1:11-12 is ook ‘n vers wat ek gereeld vir myself en vir die gemeente bid.  Let op die woord ‘resolve’ (Afr. voorneem) in v.12:

 

“…we always pray for you, that our God… may fulfill every resolve for good and every work of faith by his power, so that the name of our Lord Jesus may be glorified in you, and you in him, according to the grace of our God and the Lord Jesus Christ.” (ESV).

 

Hierdie jaar bid ek om die Here se liefde beter te verstaan. Daarom het ek besluit om vandag Ef.3:14-21 te preek.  Al is dit nie noodwendig jóú voorneme vir 2017 nie, hoop ek dat dit vir jou soos koue water in die woestyn sal wees.

 

Die God van gebed (v.14-15)

‘n Paar jaar gelede het my vriend ‘n reeks deur die Onse Vader gepreek.  Hy het ‘n geweldige ervaring van die Here se liefde en sorg gehad toe hy sy Vaderskap verstaan het.  Dit het vir hom meer vrymoedigheid in gebed gegee.  Omdat Paulus dit verstaan het, het hy ook met vrymoedigheid na die troon van genade toe gekom.  Dit is die sentrale punt van v.14-15.

 

Die Efesiërs het God se wonderlike verlossing ervaar (hfst.1-3). Paulus se gebed was dat hulle meer hiervan sou verstaan het (v.14-19).  Om sy eerbied en desperaatheid te wys, het hy voor die Here gekniel (v.14, vgl. 2 Kron.6:13, Dn.6:10, Mt.15:25, Lk.5:8, 22:41, Hd.9:40, 20:36, Fil.2:10).  Volgens Jesus se eie voorbeeld en lering het hy tot die Vader gebid (v.14, Mt.6:6, 9, 7:11, 26:39).  Ons gebede is tot die Vader, deur die Seun wat in ons plek staan, in die krag van die Heilige Gees wat ons help om te bid (v.14, 16, 17, 2:18).

 

Die Vader is die Een van wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam ontvang (v.15). Wat beteken dit?  Miskien bedoel Paulus dat die tipiese familie-patroon van ouers en kinders van God af kom:  Hy is ons Vader en ons is sy kinders.  Of dalk bedoel hy dat die gelowiges in die hemel en dié wat nog op die aarde is, God as hulle Vader het.

 

Daarom kan ons met vrymoedigheid tot Hom bid (Heb.4:16). Vrymoedigheid beteken nie dat ons disrespekvol is nie.  Paulus was vrymoedig genoeg om God sy Vader te noem, maar respekvol genoeg om sy knieë voor Hom te buig.  Die punt is nie dat jy nie mag loop of staan wanneer jy bid nie (Lk.18:13-14, Mk.11:25), maar eerder dat jy die Here se grootheid en jou nietigheid moet erken (Ps.95:6).

 

Dink dan vir ‘n paar minute oor sy grootheid en aanbid Hom voordat jy vir enigiets vra. Dit sal help as jy ‘n Psalm of ‘n ander Skrifgedeelte oor God se liefde, grootheid, Vaderskap, Wese, ens. oordink.

 

Dink ook daaraan dat God jou Vader is. Hy is beter as enige aardse pa.  Hy is volmaak en sal nooit iets doen om jou te benadeel nie.  As jy dít onthou, sal dit jou help om vrymoedigheid te hê wanneer jy bid.  Die Here wil, kan en sal jou help.  Al wat Hy van jou vra is dat jy in sy Seun moet glo.

 

Die inhoud van gebed (v.16-19)

Paulus se gebed is soos ‘n leer met vier trappe: elke trap help jou om hoër te klim, sodat jy bo kan uitkom.  Paulus het gebid dat die Efesiërs geestelik versterk sou word (v.16), dat Christus in hulle harte sou woon (v.17), dat hulle krag sou hê om sy liefde te verstaan (v.17-19a), dat hulle met die Here gevul sou word (v.19b).  Om die hoogste trap te bereik, moes hulle die eerste drie geklim het.  Kom ons klim hulle een vir een.

 

[1] Paulus het gebid dat God die Efesiërs geestelik sou versterk het in ooreenstemming met die rykdom van sy heerlikheid (v.16). Hierdie rykdom was onbeperk en kon nie uitgeput word nie (v.16, 8, Rm.11:33, Fil.4:19, Kol.1:11).  Daar was genoeg voorraad, sodat die Here hulle deur sy Gees kon versterk het (v.16).  Paulus het nie bloot vir die uiterlike versterking van siek of ou gelowiges gebid nie, maar vir die Here se innerlike versterking (v.16, 6:10, 2 Kor.4:16, Fil.4:13).

 

[2] Paulus het gebid dat Christus in die Efesiërs se harte moes woon (v.17a, 2:22). Deur die Gees het Hy reeds ingetrek toe hulle tot bekering gekom het (Rm.8:9, Gal.2:20), maar die huis van hulle harte het nog nie gelyk soos wat Hy daarvan gehou het nie.  Die gekraakte mure, stukkende teëls, druppende plafon en spinnerakke van sonde het aandag nodig gehad.  Deur die krag van die Heilige Gees was Hy besig om die huise van hulle harte reg te maak en te versier, sodat dit ‘n aanneemlike tuiste vir Hom kon wees.

 

[3] Paulus het gebid dat die Efesiërs krag sou hê om die onmeetbare dimensies van Christus se liefde te verstaan (v.17b-19a). Hulle was alreeds in die vrugbare leemgrond van sy liefde gewortel, en op die stewige fondasie daarvan vasgesement (v.17).  Nou moes hulle nog meer versadig geword het met die reën van sy liefde; Jesus wou die mure van hierdie tempel met die edelstene van sy liefde versier het (v.18).

 

Brute breinkrag was nie genoeg om hierdie liefde te verstaan nie (v.18-19). Saam met die res van die gemeente het hulle die bonatuurlike krag van die Heilige Gees benodig om iets van die breedte, lengte, hoogte en diepte van Jesus se liefde te verstaan (v.18-19, 16, Rm.5:5).

 

‘n Ondervinding wat Jonathan Edwards se vrou Sarah gehad het, illustreer wat ek bedoel. Só het sy dit beskryf:

 

‘…all night I continued in a constant, clear, and lively sense of the heavenly sweetness of Christ’s excellent and transcendent love… I seemed to myself to perceive a glow of divine love come down from the heart of Christ in heaven into my heart in a constant stream, like a stream or pencil of sweet light… there seemed to be a constant flowing and reflowing of heavenly and divine love, from Christ’s heart to mine and I appeared to myself to float or swim in these bright, sweet beams of the love of Christ, like the motes swimming in the beams of the sun, or the streams of light which come in at the window. My soul remained in a kind of heavenly elysium [paradise].’[1]

 

Die Here het vir haar siel die krag gegee om Christus se liefde te geniet. Wat Sarah Edwards beleef het, help ons om iets van Paulus se woorde te verstaan.

 

[4] Paulus het gebid dat die Efesiërs gevul sou wees met die volheid van God (v.19b, 4:13, 5:18, Jh.14:21, 23): met die Vader (v.14), die Seun (v.17, 19a) en die Heilige Gees (v.16).  Hy het basies gebid dat die Efesiërs geestelik volwasse sou word.  Om dit te bereik moes hulle die Here se liefde geken het (v.18-19).  Wat bedoel ek?

 

‘n Kind wat in ‘n liefdvolle huisgesin grootword, het ‘n beter kans om volwasse te word as een wat in ‘n huis lewe waar die ouers en kinders mekaar haat. En so is dit ook in die geestelike realm:  as jy in die warm atmosfeer van Jesus se liefde grootword, sal jy wees soos ‘n plant in ‘n kweekhuis – jy sal groei en later ook volwasse word.

 

Om volwasse te word in die Here se liefde móét jy bid soos wat Paulus in hierdie verse gedoen het.  Jy kan nie net vir jou kind se eksamen, jou ma se siekte, ‘n veilige reis Kaap toe, genoeg geld om deur die maand te kom en ‘n ander werk bid nie.  Dit is nie verkeerd om hiervoor te bid nie, maar jy kan nie daar ophou nie.  Jy moet ook (en eintlik hoofsaaklik) vir geestelike dinge bid.  Bid die gebede aan die begin van Paulus se briewe.  Bid vir:

 

[a] Blydskap, vrede en hoop (Rm.15:13).

[b] ‘n Dieper kennis van God en die wysheid om daarvolgens te lewe (Ef.1:17).

[c] ‘n Toenemende liefde en die vermoë om te kan onderskei (Fil.1:9).

[d] ‘n Heilige lewe wat die Here verheerlik (Fil.1:10-11).

[e] Krag en geduld om te volhard (Kol.1:11).

[f] Hulp om jou goeie voornemens en werke van geloof uit te voer (2 Ts.1:11).

[g] ‘n Hart wat die Here liefhet (2 Ts.3:5).

 

Die innerlike krag om hierdie dinge te doen kom nie van onsself af soos wat die Buddhiste en die New Age beweging glo nie. Dit kom van die Here af (v.16).  Ons het veral die Heilige Gees se krag nodig om Jesus se liefde te ken (v.18-19).  Hoe maklik betwyfel ons nie die Here se liefde wanneer dit met ons sleg gaan nie?  Bid dan vir die krag om dit te verstaan.

 

Moet asb. nie daarvoor bid as jy van plan is om in 2017 van die gemeentelike samekomste af weg te bly nie (ek praat nie hier van iemand wat by die gelowiges wil wees, maar te siek is om uit te kom nie).  Om die Here se liefde te ervaar moet ons dit saam met ander gelowiges geniet (v.18).  Jy gaan dit nie deur ‘n mistiese ervaring in ‘n grot of ‘n klooster kry nie.

 

Maar dit gaan ook nie soos golwe oor jou spoel net omdat jy in ‘n erediens was nie. Jy moet deur geloof na die kruis toe kom as jy die soet heuning van sy liefde wil proe (Rm.5:8, Gal.2:20, Ef.5:2, 1 Jh.3:16, 4:9-10).  Dáár sal jy sien dat sy liefde hoër is as die hemel, dieper as die hel, langer as die aarde en breër as die see (v.18, Job 11:7-9, Ps.136, 36:6, Jer.31:3, Jh.3:16, 13:1, Rm.8:38-39).  Jy sal weet dat die Here jou so liefhet soos wat Hy Homself het (Jh.15:9, 17:23).  Jy sal met ‘n dankbare hart en soos ‘n voorskoolse kind sing:

 

‘The love of Jesus is so wonderful… O, wonderful love! It’s so high you can’t get over it, it’s so deep you can’t get under it, it’s so wide you can’t get around it.  O, wonderful love!’  Jy sal die Here met jou hele hart wil liefhê, en ook jou naaste liefhê soos wat jy jouself liefhet (Mt.22:37, 39).

 

Die krag van gebed (v.20)

Charles Spurgeon se ma het vir hom gesê: ‘Ah, Charles!  I often prayed the Lord to make you a Christian, but I never asked that you might become a Baptist.’  Hy het geantwoord:  ‘Ah, mother! the Lord has answered your prayer with His usual bounty, and given you exceeding abundantly above what you asked or thought.’[2]

 

Ek weet dat Spurgeon maar net ‘n grap gemaak het, maar Paulus praat hier van dinge wat baie groter is as oor watter denominasie reg is. Hy praat van die bonatuurlike krag wat ons nodig het om Christus se oneindige liefde te ken.  En dan sê hy dat dit vir die Here baie maklik is om hierdie gebede te beantwoord – makliker as wat dit vir ons is om vir ‘n kind ‘n snytjie brood te gee (v.20, 2 Kor.9:8).  Die Here kan doen ver bo wat ons kan bid of dink (v.20).  Ons gebede en gedagtes is klein, maar die Here is groot (v.20).

 

Daar is niks wat ek en jy kan bid wat die Here nie kan doen nie (v.20, Mt.19:26, Lk.1:37). Hy kan enige gebed verhoor volgens die krag van die Heilige Gees wat in ons werk (v.20, 16).  Moet dan nie vir klein en simpel dinge bid soos om die LOTTO te wen nie.  Bid vir groot dinge bid soos om Christus se oneindige liefde te ken, en om gevul te wees met die volheid van God.  Glo dat die Here instaat is om jou te antwoord (v.20).  Die enigste beperking is die Here se almag, en daarom is daar nie ‘n beperking nie.  Dit lyk vir my of ons biddeloosheid en ongeloof die beperking is (Jk.1:6-7, 4:2).

 

Die doel van gebed (v.21)

Ek het ‘n motorfiets wedren gesien waarin die wenner met groot blydskap oor die wenstreep gery het. ‘n Paar minute daarna het een van die baan beamptes gesê dat die wenner op ‘n stadium in die resies sy voet neergesit het, en daarom gediskwalifiseer moet word.  Net so kan ons tot die regte God en vir die regte dinge bid, maar op die einde struikel omdat ons die verkeerde doel gehad het.

 

Die doel van jou gebede en die antwoorde daarop moenie wees om die lekker gevoel van God se liefde te ervaar nie, maar om die Here te verheerlik (v.21). “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.” (Jh.14:13).

 

Net soos die Here se liefde, word sy heerlikheid die duidelikste in die gemeente gesien, waarvan Christus die Hoof is (v.21, 1:22-23). Hierdie heerlikheid behoort in elke geslag en in alle gemeentes aan die Here, tot in ewigheid (v.21).  Dit sal verseker so wees:  Amen (v.21).

 

In party kerke spring mense van een ervaring na die volgende toe. Sommige bid asof die Here ‘n groot Kersvader is wat vir hulle geskenke moet gee.  Moenie so wees nie.  Fokus op die Gewer en nie op die geskenke wat Hy vir jou kan gee nie.  Dis nie verkeerd om die Here se liefde te geniet nie, maar ons moet ook nie ‘n afgod van ‘n emosionele ervaring maak nie.  ‘n Prediker van ouds het gesê:

 

‘The true-bred Christian…loves Christ for Christ… [true love] makes the soul love the gift for the Giver’s sake; it will make the soul to love the Giver without the gifts. And verily, they shall not be long without good gifts from Christ, that love Christ more than his gifts.’[3]

 

In 1762 het William Grimshaw die volgende woorde in ‘n brief gesê: ‘And now, what doth the Lord require of you, between this day and death; this new January, and the new Jerusalem?  Only love… It is heaven on earth, and heaven in heaven.  O that you may always be filled with this love, this heaven, this Christ, this God!’[4]

 

[1] Jonathan Edwards, Works: vol.1, p.lxv

[2] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, p.45

[3] Thomas Brooks, Heaven on Earth, pp.239-240

[4] Iain Murray, Pentecost Today?, p.93

Hoe om te oorleef terwyl Jesus weg is

i-miss-you

Ek het al meer as eenkeer met Christene gepraat wat sê dat dit vir hulle voel of die Here hulle verlaat dit. Selfs wanneer hulle bid voel dit nie of Hy daar is nie.  Wat moet ‘n mens in sulke tye doen?  Jh.13:31-14:14 is in die Bybel opgeteken om ons hiermee te help.

 

Wees lief vir mekaar (13:31-35)

Thys se ma is onlangs oorlede. Hy sukkel om dit te verwerk.  Ten minste is sy vrou, kinders en familie daar om hom te ondersteun.  Hulle liefde maak dat dit vir hom draaglik is.

 

Net so was dit ook toe Jesus die dissipels verlaat het. Hulle was baie hartseer.  Maar as hulle mekaar met sy liefde liefgehad het, kon hulle die hartseer verdra het.  Dit is die sentrale boodskap van 13:31-35.

 

Judas het die vertrek verlaat om die polisie te gaan haal (13:30). Jesus se kruisdood was op hande.  Hierin sou Hy as die Verlosser van die wêreld verheerlik word (13:31).  Die Vader sou Homself ook in Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart verheerlik het (13:31-32, 17:5).

 

Jesus het geweet dat die dissipels hartseer sou wees, en daarom het Hy hulle vir sy kruisdood en hemelvaart voorberei. Met vertroosting in sy stem het Hy hulle sy kinders genoem (13:33).  Hy sou nog net ‘n klein rukkie by hulle gewees het (13:33).  Hy het dit reeds in 7:34, 8:21 vir die Jode gesê, en het dit nou in sy dissipels se ore herhaal (13:33).  Omdat die Jode Hom verwerp het, kon hulle Hom nie na die hemel toe gevolg het nie (14:6).  En die dissipels het nog werk op die aarde gehad voordat húlle hemel toe kon gaan (13:33).

 

Terwyl hulle nog op die aarde was, moes hulle mekaar liefgehad het (13:34). Dit was Jesus se nuwe gebod aan hulle.  Maar hoe was die gebod nuut as Hy dit reeds in die Ou Testament gegee het (Lv.19:18)?  Dit was nuut omdat hulle dit ná Jesus se kruisdood op ‘n nuwe manier verstaan het.  Hulle moes mekaar dan liefgehad het soos wat Jesus hulle liefgehad het (13:34, 1 Jh.4:10-11).

 

Die wêreld sou die Christene se opofferende liefde gesien het en geweet het hulle is Jesus se dissipels (13:35). Tertullianus het een eeu na Johannes geskryf.  Die heidene van sy tyd was verbaas oor die Christene se onderlinge liefde – veral in tye van vervolging.  ‘Kyk hoe hulle mekaar liefhet!… hoe hulle selfs bereid is om vir mekaar te sterf!’[1]

 

Wanneer dit by onderlinge liefde kom, moet dit nie net in woorde bestaan nie, maar in dade (1 Jh.3:17-18). Christelike liefde is nie maar net ‘n gevoel nie, maar is prakties.  Christelike liefde weet wat dit beteken om geld en besittings met ‘n arm gelowige te deel.  Dit weet hoe om by iemand te sit wat moedeloos of eensaam is.  Dit weet hoe om vir ander te bid en hulle op te volg.  Dit is soos Jesus wat sal opoffer om ander te bevoordeel (1 Jh.3:16).

 

Moenie selfversekerd wees nie (13:36-38)

Ashwell is deel van ‘n bende in die Kaap. Voor sy vriende is hy grootbek en bang vir niemand nie.  Maar as sy vyande hom alleen in die winkel kry, is hy soos ‘n bang hondjie.  Die meeste van ons het so ‘n streek in ons.  As Jesus by ons is, is ons baie dapper.  Maar as ons nie meer sy teenwoordigheid by ons kan voel nie, dan vou ons.  Juis daarom moet ons nie te vol wees van onsself nie, maar eerder by Jesus skuil.  Dit is wat ons Johannes in 13:36-38 vir ons wil leer.

 

Petrus het nie die les oor liefde ter harte geneem nie, maar het gewonder waarheen Jesus oppad was (13:36). Jesus het vir Petrus gesê dat hy nie nou kon saamgaan nie (13:36).  Hy kon nie soos Jesus vir ander gesterf het of vereer word nie.  Hy sou egter later vir die evangelie gesterf het (13:36, 21:18-19, 2 Pt.1:14).

 

‘Hoekom kan ek nie nou volg nie – ek is bereid om my lewe vir U te gee,’ het Petrus gesê (13:37).  Petrus was lojaal, maar hy was ook selfversekerd.  ‘Is jy regtig bereid om jou lewe vir my te gee, Petrus?’ het Jesus gevra.  ‘Die waarheid is dat jy My drie keer sal verloën nog voordat die haan kraai.’ (13:38, 18:27).

 

Sonder Jesus kan ons niks doen nie (15:5). Ons moet dan nie luister wanneer die wêreld vir ons sê ons moet selfversekerd wees nie.  Druk jou ore toe as hulle vir jou sê jy moet in jouself glo en ‘n hoë opinie van jouself hê.  As jy op jouself staatmaak, sal jy vou soos Petrus.  Moet dan nie parmantig raak en dink jy is die kat se snor nie.  Vergeet eerder van jouself en vertrou op Jesus, sodat jy ‘n sterk sekerheid kan hê:  “In die vrees van die Here lê ‘n sterk sekerheid” (Sp.14:26).

 

Dink aan die toekoms (14:1-3)

Danie en sy vrou immigreer Australië toe. Hy begin volgende maand werk, en sy moet vir ses maande agterbly om die huis te verkoop en ‘n ander sake af te handel.  Dit is vir haar erg om van hom af weg te wees, maar wanneer sy daaraan dink dat sy hom binne ‘n paar maande weer gaan sien, dan help dit haar om vas te byt.  En so is dit ook met ons en Jesus:  dit is erg dat ons nie by hom kan wees nie, maar die wete dat Hy ons weer gaan kom haal help ons om te volhard.  Dit is waaroor 14:1-3 gaan.

 

Jesus het geweet dat die dissipels ontsteld was oor sy aankondiging van Judas se verraad en Petrus se verloëning (13:21, 38). Hulle was ook onseker en bang omdat Jesus sou weggaan.  Hy het vir hulle gesê om nie bang en onsteld te wees nie (14:1).  Hulle moes eerder op Hom en sy Vader vertrou het (14:1, 12:44).

 

Jesus het vir hulle vertel dat Hy oppad was na die Vader se huis toe om deur sy kruisdood vir elkeen van hulle ‘n kamer gereed te kry (14:2). Daar was meer as genoeg plek vir hulle almal (14:2).  Hy sou mos nie vir hulle gejok het nie (14:2, 1 Pt.2:22).  Omdat die Vader sy huis in hulle harte gemaak het (14:23), kon hulle ook nou in sy hemelse huis gebly het (14:2).

 

As Jesus klaar die plek voorberei het, sou Hy weer teruggekom het om die dissipels na Hom toe te vat, sodat hulle by Hom kon wees (14:3, 12:26). Wanneer sou dít gewees het?  Ek is nie so seker dat Johannes hier van Jesus se wederkoms praat nie.  Wanneer die Here weer kom gaan ons saam met Hom op die nuwe aarde bly, en nie in die hemel nie (Op.21).  Jesus verwys dan heel moontlik hier na die dag van ‘n gelowige se dood, wanneer hy of sy hemel toe gaan.

 

Hierdie vooruitsig help ons om nie in vrees te lewe vir die dood nie. Dit help ons ook om te volhard wanneer ons bekommerd en bang is (v.1).  Dit gee vir ons ‘n ongekende vrede.  Natuurlik sal jy dit nie hê as jy ‘n verkeerde idee van die hemel het nie.

 

Die hemel is nie ‘n abstrakte of ‘n wasige beeld in Christene se koppe nie. Die hemel is ‘n plek (14:2).  Dit is ‘n stad waarvan God self die argitek en bouer is (Heb.11:10).  Dit is ‘n groot paleis wat baie kamers het.  Dit het nie maar net ‘n duisend kamers soos ‘n vorige president van Romenië se paleis nie.  Daar is genoeg kamers om die ontelbare skare van verlostes te huisves (14:2, Op.7:9).  As dit nié so was nie, sou Jesus dit nie vir ons gesê het nie (14:2).

 

En tog gaan die hemel nie hoofsaaklik oor die pragtige paleis met sy kamers nie. Dit gaan oor Jesus.  Hy kom om ons na Homself toe te neem, en nie primêr na die paleis toe nie (14:3).  Hy wil vir ewig in ‘n verhouding en vrienskap met ons lewe.  Hy wil al die stoorkamers van sy groot genade en liefde vir ons oopsluit (Ef.2:7).  As Jesus nie in die hemel was nie, dan sou dit nie die moeite werd gewees het om soontoe te gaan nie.  Laat die verlange na Hom jou bemoedig.

 

Ken vir Jesus (14:4-11)

Sunel is ‘n Christen. Sy is egter ‘n bietjie lui wanneer dit by persoonlike Bybelstudie en gebed kom.  Sy onderwerp haar nie op ‘n gereelde basis aan die lering en verkondiging van God se Woord nie.  Toe sy deur ‘n moeilike tyd gegaan het, het sy nie geweet watter kant toe nie.  Sy was bang, angstig en kwaad.  Haar flou kennis van die Here het gemaak dat sy Hom nie vertrou het nie, maar probeer het om haarself uit te help.  Jesus wou die dissipels in hulle tyd van moeilikheid gehelp het, en daarom het hulle ‘n groter kennis van Hom nodig gehad.

 

‘Julle ken die pad na die hemel toe,’ het Hy vir sy dissipels gesê (14:4). Pessimistiese Tomas het nie verstaan nie.  ‘Eintlik weet ons nie dan nie eers waarheen U oppad is nie; hoe kan ons die pad ken?’ het hy gevra (14:5).  ‘Moet jou nie kwel nie Tomas: EK IS die ware weg wat na die lewe toe lei,’ is basies wat Jesus in 14:6 vir hom gesê het.  Jesus het nie maar net vooruit geloop en gesê:  ‘Volg die weg wat Ek volg, en julle sal in die hemel uitkom’ nie.  Nee, Hy is die weg.  En omdat Hy die waarheid en die lewe is, was Hy nie ‘n vals weg wat die dissipels sou mislei en na die ewige dood toe lei nie.  As die enigste weg na die hemel toe, kon die dissipels op Hom staatgemaak het (14:6, Hd.4:12).

 

Omdat Jesus dan die enigste weg na die Vader toe was, sou die dissipels die Vader geken het as hulle vir Jesus geken het (14:7). Jesus was die enigste een wat die Vader gesien het (6:46), maar deur Jesus kon húlle nou die Vader geken en gesien het (14:7).  Filippus het nie verstaan nie.  “Wys ons die Vader en dit sal vir ons genoeg wees,’ het hy gesê (14:8).  Vir hom was daar niks groter en beter gewees as om die Vader te sien nie.  Dit sou sommer dadelik sy vrese opgeklaar het.

 

Maar het Filippus na sy drie jaar saam met Jesus nogsteeds nie geweet wie Hy is nie? Het hy nie besef dat Jesus ‘n presiese afskrif van die Vader is nie (14:9, 1:18, 12:45, Kol.1:15, 19, 2:9, Heb.1:3)?  Hoe kon hy dan vir Jesus gevra het om vir hom die Vader te wys?  Het hy dan nie geglo dat Jesus in die Vader is en die Vader in Hom nie; dat Hy en die Vader een is nie (14:10, 10:30)?  Jesus se kragtige woorde en wonderwerke het dit dan bewys (14:10).  Filippus en die res moes die belydenis van Jesus se Godheid geglo het, of ten minste in sy wonderwerke gesien het dat Hy die Seun van God is (14:11, 20:30-31).

 

Hierdie kennis sou hulle in ‘n tyd van hartseer en angs gehelp het. En as ons die Here beter ken sal dit ons ook help.  Wil jy weet hoe om in die hemel te kom?  Jesus is die Weg:  vertrou op Hom, glo in Hom, volg Hom (14:6).  Wil jy weet of Christenskap die ware godsdiens is, en wonder jy miskien hoekom die ander godsdienste nie ook reg kan wees nie?  Jesus is die Waarheid en die enigste Weg na die Vader toe (14:6, Hd.4:12).  Wil jy weet hoe jy seker kan wees dat jy die ewige lewe het?  Jesus is die Lewe en kan daarom die ewige lewe gee aan dié wat in Hom glo (14:6, 1 Jh.5:20).

 

Wonder jy of jy eendag in die hemel die Vader gaan sien, en of jy net vir Jesus gaan sien? Dit is ‘n dom vraag, want wie vir Jesus gesien het, het die Vader gesien (14:9).  As jy die Vader wil ken, moet jy vir Jesus ken (14:9).  Kom ek gee vir jou ‘n paar voorbeelde:

 

  • Soos Jesus, wil die Vader ook hê dat sondaars tot bekering moet kom, en is Hy bedroef as hulle nie na Hom toe wil kom nie (Lk.13:24, 15:10, 19:41).
  • Soos Jesus is die Vader lief vir die grootste sondaars en geniet Hy dit om hulle te red (Mt.9:9-13).
  • Soos Jesus is die Vader lief vir kinders en wil Hy hê dat hulle in sy Seun moet glo (Mk.10:13-16).
  • Soos Jesus voel die Vader jammer vir mense wat swaarkry (Mt.15:32, Lk.7:13).

 

Ek hoop dit help jou.

 

Steun op sy krag (14:12-14)

Jan Pinkster lewe om wonderwerke te sien. Hy is by elke genesingsdiens en tentbyeenkoms.  Toe sy Christen kollega, Konserwatiewe Kobus vir hom gesê het dat die wonderwerke waarin hy glo nie die ware Jakob is nie, het hy Jh.14:12 aangehaal:  “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”

 

Maar wat beteken hierdie vers? Dit kan tog nie beteken dat Jesus se volgelinge meer wonderwerke as Hy sou doen nie, want “daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” (21:25).

 

Dit kan ook nie beteken dat sy volgelinge meer fantasiese wonderwerke as Hy sou doen nie. Ken jy iemand wat op water kan loop of die wind en die see kan stilmaak?  Het jy al iemand ontmoet wat ‘n graf kan oopgrawe en die dooie persoon daarin kan opwek?

 

Wat beteken die groter werke dan? Die teks sê dat Jesus se volgelinge groter werke as Hy sou doen, omdat Hy oppad was na die Vader toe (14:12).  As Jesus by die Vader was, sou Hy die Gees uitgestort het.  Hy het ook ná sy kruisdood en opstanding eers na die Vader toe gegaan.  Sy volgelinge sou dan die Goeie Nuus van Jesus se kruisdood en opstanding (die boodskap van bekering) met groter effek verkondig het as wat Hy dit gedoen het.  Dit klink of ek besig is om te laster, maar dis waar.

 

Hoeveel volgelinge het Jesus gehad toe Hy op die aarde was? ‘n Paar.  Hoeveel mense het tot bekering gekom toe Petrus in die Gees se krag die evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding verkondig het?  Drieduisend… op een dag.  Bekering is ‘n baie kragtige wonderwerk.  Volgens Ef.1:19-20, 2:4-5 het God dieselfde krag gebruik om ons uit die graf van ons sonde uit op te wek, as wat Hy gebruik het om vir Jesus uit die dood uit op te wek.

 

Waar kon Jesus se volgelinge die krag gekry het om hierdie groter werke te doen?  In gebed (14:13-14, Mt.17:20, 21:21-22).  Hoe moet ons bid?  In Jesus se Naam.  As ons so bid, sal Hy enigiets doen wat ons van Hom vra (14:13-14).  Om in sy Naam te bid beteken nie dat jy dit as ‘n towerformule aan die einde van jou gebed moet sê nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken eerder dat jy op grond van Jesus se Persoon en verlossingswerk aanvaarbaar is voor God. Jy kom deur Jesus na die Vader toe (14:6).  Die Vader antwoord ons gebede omdat Hy tevrede is met Jesus, en nie omdat ons opreg is of goed genoeg gebid het nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken ook dat jy volgens die Woord bid. Dit is asof jy sê:  ‘Vader, Jesus het gesê ek moet vra vir…’ en dan die Bybel aanhaal.  Jy moet God dus aan sy Woord en beloftes herinner (Jes.62:6-7).  Prakties beteken dit dat jy nie kan bid vir ‘n Rolls Royce in Jesus se Naam nie.  God se heerlikheid en nie ons selfsugtige begeertes nie, moet die fokus van ons gebede wees (14:13).

 

Dit behoort ons ook te bemoedig dat Jesus enigiets kan doen (13:14).  Die enigste beperking in gebed is Jesus se almag, en daarom is daar geen beperking nie.  Die ding wat ons die meeste beperk is ons eie ongeloof en biddeloosheid (Jk.4:2).

 

In Walt Disney se Lion King sê die klein leeutjie se pa vir hom dat hy altyd by hom sal wees.  Hy was dood toe hy dit gesê het.  Hoe kan ‘n dooie leeu by sy welpie wees om hom op te pas?  Met Jesus is dit anders, omdat Hy nie dood is nie maar lewe.  Deur sy Gees is Hy regtig altyd by ons om ons te versterk en op te pas (14:16-18).  En dit is waar ons volgende keer gaan stilstaan.

 

[1] Aangehaal in D.A. Carson, The Gospel According to John, p.485 n.1

‘n Gebed vir reën

‘n Bybelse reaksie op die droogte in Suid-Afrika

pray-for-rain

In die week was daar een Beeld-opskrif wat gesê het dat ons land se damme dalk eers oor 5 jaar weer sal vol wees. Die SABC Nuus-webblad sê:  ‘Die Suid-Afrikaanse Weerburo sê dat herstel ná die droogte stadig gaan wees, ten spyte van voorspellings dat daar tussen nou en Februarie ‘n bo-gemiddelde reënval oor groot dele van die land sal wees.’[1]

 

Ek ontken nie dat die droogte erg is nie. Ek weier egter om te glo dat die weerprofete se voorspellings onfeilbaar is.  As die Here wil, kan Hy binne ‘n halfuur ons land se damme volmaak.  1 Kon.18:41-46 illustreer vir ons iets van wie hierdie God is wat reën kan gee.

 

Die agtergrond

Om v.41-46 beter te verstaan sal dit help om ‘n bietjie agtergrond te hê. Onder die invloed van die bose koningin Isebel het koning Agab en die volk begin om die Baäls te aanbid (16:31-33, 21:25).  Elia het in 17:1 vir hom gesê dat daar a.g.v. sy en sy familie se bose invloed nie reën sal wees nie (v.18).  Volgens v.1 en Jk.5:17 het dit vir 3½ jaar nie gereën nie.  Maar die Here sou binnekort reën gestuur het (v.1).

 

Gedurende die droogte was Elia in die woestyn en ook in ‘n heidense land waar die Here hom deur die kraaie en ‘n weduwee versorg het (hfst.17). Nou het hy egter teruggekeer om vir Agab te sê dat die droogte verby was (v.1-16).  Toe Agab vir Elia gesien het, het hy gesê:  ‘Ja, jou molesmaker van Israel – dit is jóú skuld dat dit nie reën nie’ (v.17).  Hy het geweet dat Elia ‘n vinger in hierdie pasty gehad het (17:1, Jk.5:17).

 

Maar soos ons reeds gesien het was dit sý skuld en nie Elia s’n nie (v.18). God het die volk gestraf omdat hulle van Hom af weggedraai het om die Baäls te aanbid (v.18).  Elia het toe vir Agab uitgedaag om die volk, asook Isebel se 450 Baäl-profete en die 400 profete van Asjera op berg Karmel (in die noord-weste van Israel) bymekaar te bring (v.18-19).  Hiér is hoekom dit belangrik was:

 

Die Baäls of ‘here’ van elke geografiese gebied was veronderstel om die land vrugbaar te maak, terwyl Asjera die godin van vrugbaarheid was.[2]  Kon hierdie gode regtig reën gestuur het om die droogte te breek?  Elia wou vir Agab en die volk gewys het dat dit net die Here is wat reën kan gee.

 

Die Here wou deur Elia gewys het dat Hy vir Baäl op sy eie speelveld sal wen. ‘In the annale van die Assiriese koning, Salmaneser II (841 v.C.) is Karmel die berg van Baäl… Karmel was heilige grond wat aan Baäl gewy is.  Juis daarom het Elia gesê hulle moet hiér bymekaar kom.’[3]

 

Die eindtelling was 1-0 vir Jahwe. Baäl was ‘n dooie afgod wat aan die slaap was… of met vakansie, of in die badkamer (v.26-29).  Hy kon nie vuur uit die hemel gestuur het om die Baäl-profete se offer aan die brand te steek nie.  Die Here het egter vuur – of weerlig wat wys dat Hy later ook reën sou stuur? – uit ‘n helder blou hemel gestuur om Elia se deurweekte offer, klippe en nat hout aan die brand te steek (v.30-38).  Elia het geweet dat God binnekort reën sou stuur, en daarom het hy nie omgegee om in ‘n tyd van droogte water te mors nie.

 

Elia het toe volgens God se wet (Dt.13) die Baäl-profete doodgemaak, net soos wat Isebel in v.4 God se profete doodgemaak het (v.40).  Dieselfde mes wat die bul geslag het, het die vals profete geslag.  Elia het dit by die Kison spruit gedoen om ‘n punt te bewys:  die Baäl-profete se afgodery het die spruit laat opdroog, en nou sou hulle bloed dit gevul het.

 

Die teks

Elia vir Agab gesê om te eet en drink – om fees te vier – omdat die droogte verby was (v.41). Maar omdat die reën oppad was, moes hy nie te lank gedraai het nie (v.41).  Elia kon as’t ware die gedreun van die reën gehoor het – al was daar nog nie ‘n wolkie in die lug nie (v.41).

 

Agab het vir Elia geglo en gedoen wat hy gesê het (v.42). Wie sou nie – veral as jy nou-net gesien het hoe God vuur uit die hemel gestuur het?  Elia het weer teen die berg opgeklim om te bid (v.42).  Om sy eerbied en desperaatheid te wys het hy hom na die aarde toe gebuig en sy gesig tussen sy knieë gesit (v.42).

 

Maar hoekom het hy gebid as die Here reeds in v.1 belowe het om reën te gee? Kon hy nie maar net vir die vervulling van God se belofte gewag het nie?  Nee.  God het besluit om deur die gebede van sy kinders te werk (vgl. 8:35-36).  “Bid tot die HERE om reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle ‘n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen.” (Sg.10:1).

 

Elia het vir sy dienskneg gesê om te gaan kyk of daar al ‘n teken van reën in die lug was (v.43). Duidelik het hy geglo dat die Here sy belofte van v.1 sou nakom.  Elia se dienskneg het oor die Middellandse See uitgekyk maar niks gesien nie (v.43).  Elia het nie moedeloos geword nie; hy het aangehou om te bid (v.43).  Sewe keer het hy sy dienskneg teruggestuur om te kyk of hy iets sien (v.43).

 

Die sewende keer het die dienskneg gesê dat daar ‘n klein wolkie bo die see opkom – ‘n wolk so groot soos jou hand as jy dit ‘n armlengte van jou gesig af weghou (v.44). Die Here het Elia se gebed beantwoord (Jk.5:18).  Onmiddellik het hy sy dienskneg gestuur om vir Agab te sê hy moet op sy strydwa klim en jaag voordat die reën hom vang (v.44).  Die Here was genadig om vir die bose Agab ‘n kans te gee om weg te kom.

 

Die klein wolkie het gegroei; die hemel het swart geword en die wind het gewaai; die reën het in emmers neergesak (v.45). Agab se perde het vinniger as die wind gehardloop om die 30 km na Jisreël toe af te lê (v.45, 21:1).  Deur die bonatuurlike krag van die Here het Elia nóg vinniger as Agab se perde gehardloop, sodat hy voor hom in Jisreël aangekom het (v.46).

 

Deur voor die koning uit te hardloop het Elia gewys dat hy nie teen die koning wil werk nie, maar dat hy hom wil dien en vir die Here wil wen.  Dit was immers die koning se diensknegte wat voor hom uitgehardloop het (1:5).  Agab wou egter met sy sonde aanhou, en daarom het hy die hand wat na hom toe uitgestrek was weggeklap (hfst.20-22).

 

Die toepassing

Ek twyfel nie dat die droogte in ons land God se straf vir ons sonde is nie (v.18). Suid-Afrika is immoreel en korrup.  In Dt.28:23-24 het die Here vir Israel gesê wat die gevolg sal wees as hulle Hom nie gehoorsaam nie:  “En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees.  Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.”

 

Ook in Jer.3 lees ons van Israel se sonde. Wat was die gevolg?  “En die reënbuie is ingehou, en daar was geen laat reëns nie.” (Jer.3:3).  In Sg.14:17 sê die profeet:  “En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie.”

 

Wat moet ons dan doen? Ons moet die Here dank dat Hy ons nie straf volgens wat ons verdien nie (Ps.130:3).  Die damme is nou wel leeg en daar is boere wat swaarkry.  Maar aan die ander kant het die Here ook op baie plekke reën gestuur.  In sy groot liefde het Hy dit nie net gestuur op die plase en erwe van dié wat Hom dien nie, maar ook op sy vyande se tuine, landerye en grasperke.  In Mt.5:45 het Hy Homself geopenbaar as die Een wat “laat reën op regverdiges en onregverdiges.”  Hy het sy goedheid bekend gemaak deur “van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.” (Hd.14:17).

 

Partykeer stuur die Here reën om mense te straf (soos met Noag se vloed). Maar in die afgelope paar weke het Hy dit gestuur “om sy liefde te toon” (Job 37:13, Nuwe Vertaling).  Daarom moet ons Hom prys “wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit, wat aan die vee hulle voedsel gee” (Ps.147:8-9).

 

God het die droogte gestuur omdat Hy wil hê ons moet na Hom toe draai. Ons moenie soos Israel wees nie.  In Am.4:7-8 sê die Here:  “Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.”

 

Ons moenie soos Agab wees wat lieflike reën gekry het, maar hom nie bekeer het nie. Ons kan nie maar net na die god van ons keuse, Baäl, Vishnu of Allah toe draai nie.  Ons moet na die God toe draai wat reën kan gee.  “Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak?  Of kan die hemel reënbuie gee?  Is U dit nie, o HERE onse God?  En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge.” (Jer.14:22).

 

Ons moet ook nie die Here en ander gode wil dien nie:  God en Baäl, Jesus en die kroeg of die klub (Jk.4:4), Jesus en geld (Mt.6:24), Jesus en Maria, Jesus en die voorvader geeste, Jesus en evolusie (v.21, 2 Kon.17:33, 41).  Jy moet kies wie jy wil dien (v.21, Jos.24:15).  Jy moet God liefhê met jou hele menswees of glad nie (Lk.10:27, 14:26).

 

God is bereid om jou te vergewe as jy na Hom toe draai. Dit maak nie saak hoe groot jou sonde is nie.  As jy jou bekeer en in sy Seun glo, sal Hy jou vergewe.  Hy was bereid om vir Agab te vergewe – Agab wat slegter was as enige koning voor hom (16:30), wat goue kalwe, die Baäls en die Asjera’s aanbid het (v.18, 16:31-33), en wat nie omgegee het toe sy vrou die Here se profete doodgemaak het nie (v.4).

 

Sal Jesus vir sondaars sterf, maar nie bereid wees om hulle te vergewe as hulle in geloof en bekering na Hom toe draai nie? As jy op Jesus, sy kruisdood en sy opstanding vertrou, is God bereid om jou te vergewe:  al het jy ook ‘n moord gepleeg of seksueel losbandig gelewe.  Jesus Christus het in die wêreld ingekom om Paulus-kaliber sondaars te red (1 Tm.1:15).  En kan Hy jou nie vergewe nie?

 

Natuurlik moet ons onself nie bekeer sodat ons reën kan kry nie, maar sodat ons God in en met ons lewens sal verheerlik.  En tog sal Hy vir ons reën gee as ons van ons sonde af wegdraai en gehoorsaam is:  “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.” (Lv.26:3-4).

 

Eers as Jesus jou Verlosser is en jy aan Hom gehoorsaam is, sal dit help om op die Whatsapp boodskappe te reageer en te bid vir reën.  Hoe moet jy bid?  Moenie bid asof die Here ‘n afgod is soos Baäl nie.  Ek ken nie mense wat hulleself met messe sny om die Here se aandag te trek nie (v.28).  Maar ek ken mense wat dink dat hulle die Here se arm kan draai, omdat hulle lank gebid het, of omdat hulle ‘n groot groep mense gekry het om saam met hulle te bid (v.26).

 

Moenie so bid nie. “En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.  Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.” (Mt.6:7-8).  Jy kan nie die Here manupileer nie.  Hy wil eenvoudig hê dat jy opreg, met eerbied en deur geloof in Jesus Christus tot Hom moet bid (v.36-37).  En as Hy jou nie onmiddellik antwoord nie, wil Hy hê jy moet met volharding bid (v.43-44).  Dit geld ook wanneer ons vir reën bid.

 

John Piper sê: ‘As 25 mm reën gedurende die nag op 2.59 km2 plaasgrond val, is dit 65 785 698 m3 water, wat gelyk is aan 65 781 099 liter of 65 561 959 kg water.’[4]  Dit móét ‘n wyse God wees wat so baie water lig genoeg kan maak dat dit vir honderde kilometers as wolke deur die wind gedryf kan word, en dan weer swaar genoeg kan word dat dit in druppels tot op die aarde kan val.  Hy is ‘n God wat groot dinge doen, “wonders sonder getal; wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde” (Job 5:9-10).  Hy is ons God.

 

[1] Vry vertaal uit: http://www.sabc.co.za/news/a/a3020b004ed13bc9b6d4fef5a9947ffb/SAsundefineddroughtundefinedrecoveryundefinedwillundefinedbeundefinedslow-20160211

[2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywings onder Baal en Asherah

[3] Vry vertaal uit Dale Ralph Davis, The Wisdom and the Folly: An Exposition of the Book fo First Kings, pp.236-237

[4] Taste and See, p.25