God se grootste gawe aan ons

receive-gift

Ek is op 6 Desember 2003 getroud. Kom ek vertel jou van die grootste geskenk wat ek op daardie dag gekry het.  Dit was nie die wasmasjien, die silwer potte of geld nie.  Dit was my vrou.

 

En net so is God se grootste gawe aan ons nie iets nie, maar Iemand, naamlik Hy self.  Hy het Homself eers in sy Seun aan ons gegee, en toe in die Heilige Gees.  Kom ons kyk wat Jh.16:5-15 hieroor te sê het.

 

Die Gees se teenwoordigheid (v.5-7)

Jesus was oppad terug na die Vader toe wat Hom gestuur het (v.5). En tog het nie een van die dissipels vir Hom gevra waarheen Hy oppad is nie (v.5).  Toe Petrus en Thomas dit in 13:36 en 14:5 gevra het, het hulle aan hulleself gedink en nie aan Jesus nie.

 

Hulle was soos kinders wie se pa vir hulle sê dat hy nie met hulle kan speel nie, omdat hy na ‘n vergadering toe moet gaan. ‘Ahhh!  Waarheen gaan pa?’ wil hulle weet.  Dit is nie dat hulle regtig wil weet waarheen hy oppad is nie, maar hulle is ongelukkig omdat hy nie met hulle kan speel nie.[1]

 

So was dit ook met die dissipels, en volgens v.5-6 het Jesus dit geweet. Hulle het nie aan Jesus se verheerliking gedink (14:28), of besef dat dit vir hulle voordelig sou wees nie (v.7).  As Jesus nie na die Vader toe teruggekeer het nie, sou die Trooster – die Heilige Gees – nie na hulle toe gekom het nie (v.7).  Maar as Jesus by die Vader was, sou Hy die Trooster vir hulle gestuur het (v.7, 15:26, Hd.2:33).  In al hierdie dinge het Jesus die waarheid gepraat (v.7).

 

Moenie die fout maak om te dink dat Jesus ‘n leemte gelos het, en dat die Heilige Gees dit sou vul nie. Die waarheid is eerder dat Jesus deur die Gees teenwoordig sou wees om die leemte te vul (14:23).  Moet dan nie dink dat dit vir jou beter sou gewees het om op die aarde te lewe toe Jesus hier was nie.  In sy menslike liggaam kon Hy nie oral gewees het of in die dissipels gewoon het nie.  Maar deur die Gees kan Hy, en daarom is dit vir ons beter dat Hy weggegaan het en die Gees na ons toe gestuur het (v.7).

 

Deur die Gees is Jesus altyd by jou en sal Hy jou nooit verlaat nie (Mt.28:20, Heb.13:5). Dit moet jou veral bemoedig wanneer jy beproef word en jy hartseer, eensaam en angstig is (v.6, 14:1).  Hy is nie ‘n telefoon oproep weg, sodat jy vir 5 minute moet wag voor Hy jou kan help nie.  Nee, Hy is nader aan jou as wat jy aan jouself is.

 

Die Gees se oortuiging (v.8-11)

Die Bybel leer vir ons dat niemand tot bekering kan kom as hy of sy nie eers gesien het dat hulle verlore is nie. Daar moet ‘n duidelike oortuiging van sonde wees.  Dit beteken egter nie dat almal oor hulle sonde moet huil nie.  Dit beteken ook nie dat almal wat onder sonde oortuiging is tot bekering gekom het nie (Hd.24:24-25).  Dit is nie ‘n kuns om mense te laat huil nie.

 

Volgens 2 Kor.7:10 bestaan daar so iets soos wêreldse berou waarin mense skuldig voel en oor die gevolge van hulle sonde huil, maar hulle nie bekeer nie. Jy is nie gered bloot omdat jy besef het jy is verlore nie.  Iain Murray sê:  ‘It is essential to understand that to be awakened is not the same as to be saved.’[2]  Hou dit asseblief in gedagte wanneer ons v.8-11 van nader bekyk.

 

Die Heilige Gees het o.a. gekom om die wêreld – die bose mensdom wat volgens Ef.2:2 en 1 Jh.5:19 agter die duiwel aanloop – te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (v.8). In die konteks van v.13-15, 15:26-27 lyk dit of Hy dit hoofsaaklik deur die apostels se geïnspireerde briewe en prediking sou doen (bv. Hd.2:36-37).  Hy sou die Woord soos ‘n swaard gebruik het om die haat en sondige intensies in hulle harte bloot te lê (15:18, Heb.4:12-13, 1 Kor.14:24-25).

 

Ons verstaan dan iets van wat dit beteken dat Hy die wêreld van sonde oortuig. Maar wat beteken dit dat Hy hulle van geregtigheid en oordeel oortuig?  Kommentators verskil oor wat dit beteken.  Volgens een interpretasie sal die Heilige Gees die wêreld oortuig van hulle sonde, Jesus se geregtigheid en God se oordeel.  Maar na my mening is dit nie wat Jesus bedoel het nie.  Dit lyk eerder of die Gees hulle sal oortuig van hulle sonde, hulle geregtigheid en hulle oordeel.  Kom ek verduidelik.

 

[1] Die Heilige Gees sal die wêreld van hulle sonde oortuig, omdat hulle nie in Jesus glo nie (v.9).  Ongeloof in Jesus as die Messias en Here is die sonde wat hulle in die hel laat beland, en is ook die wortel van elke ander sonde (8:24).

 

[2] Die Heilige Gees sal die wêreld daarvan oortuig dat hulle selfregverdig is, en dat hulle Christus se volmaakte geregtigheid verwerp (v.10). Hy sal vir hulle wys dat hulle regverdige dade soos ‘n besoedelde kleed is (Jes.64:6).  Toe Jesus op die aarde was het Hy dit gedoen (Mt.23, Lk.18:9, 16:15).  Maar noudat Hy oppad was na die Vader toe sou die Gees dit deur die apostels gedoen het (v.10b).

 

[3] Die Heilige Gees sal die wêreld daarvan oortuig dat hulle verkeerd was om vir Jesus op grond van die uiterlike te oordeel (v.11, 7:24, Jes.53:3). In húlle gedagtes het sy kruisdood gewys dat God Hom vir sy sonde geoordeel het, en dat Hy daarom nie die Messias was nie (Jes.53:4, Mt.27:43).  Maar hulle was verkeerd, omdat die kruis gewys het dat Hy vir Satan – die regeerder van hierdie wêreld – geoordeel het (v.11, 12:31, Gn.3:15, Kol.2:15, 1 Jh.3:8, 5:19).

 

Sonder die Heilige Gees kan die wêreld nie ‘n akkurate beeld van hulle sonde, geregtigheid en oordeel hê nie. Sonder Hom kan hulle nie sien dat hulle harte boos is nie.  Hulle meet hulleself aan ander en dink dan dat hulle nie só sleg is nie.  Hulle definieer sonde as dit wat ander mense seermaak, en verskoon daarom hulle homseksuele dade, wellus, pornografie en ander lelike dinge.  Hulle dink nie daaraan dat alle sonde ‘n oortreding van God se wet is, en dat dit teen Hom gedoen word nie (Ps.51:6).

 

Verder het hulle nie ‘n idee hoe baie die Here hulle selfregverdigheid haat nie. Hulle dink dat hulle goed genoeg is om hemel toe te gaan, en dat hulle net harder moet probeer om sy guns te wen.  Hulle behandel Hom asof Hy ‘n afgod is wie se woede deur hulle godsdienstige pogings bedaar kan word.  Hulle dink dat hulle Hom kan omkoop met tiendes, bydraes aan die armes, kerkbywoning en vas.

 

Hulle verstaan ook nie hoe skeef hulle oordeel is nie. In hulle oë is Jesus die sondaar (9:24) en hulle die goeie mense.  As ‘n swanger ma te veel gedrink het sodat haar baba met ‘n defek gebore word, dan is dit die Here se skuld en nie hare nie.  As mense seksueel losbandig lewe en besluit om die ongebore baba te vermoor, is dit húlle keuse en kan nie die Bybel nie vir hulle sê wat om te doen nie.  ‘Dit is mý liggaam,’ is wat hulle sê.  Maar as hulle VIGS kry, dan is die Here die vark in die verhaal.

 

Mense is so blind dat hulle hierdie dinge nie kan insien nie. Daarom moet die Gees die swaard van God se Woord in hulle harte insny.  Só wys Hy dat hulle vol van sonde en selfregverdigheid is, en dat hulle nie die vermoeë het om reg te oordeel wanneer dit by geestelike dinge kom nie.  Hy sê nie net vir hulle om hulle sonde te los nie, maar ook die goeie dade waarop hulle staatmaak om gered te word (Rm.9:31, 10:3, Fil.3:4-6).  Met harte vol berou moet hulle in geloof na die gekruisigde Jesus toe draai, sodat Hy hulle kan vergewe en sý volmaakte geregtigheid aan hulle kan toereken (Fil.3:7-9).

 

Die Gees gebruik gewoonlik Bybelse prediking en Christene se heilige lewens om die wêreld hiervan te oortuig. Daarom kan ons nie die wêreld vir die Here wen as ons soos hulle is nie – ons moet heilig wees.  Maar heiligheid op sy eie is nie genoeg nie:  ons moet ook ons monde oopmaak en die evangelie met mense deel.

 

As ons onthou dat net die Heilige Gees mense kan oortuig, sal ons meer vir hulle bid, en nie ons tyd mors om met hulle te stry nie. Maar omdat Hy mense deur die evangelie oortuig, sal ons soos Paulus wees en alles in ons vermoeë doen om hulle te probeer oorreed (Hd.18:4, 19:8, 2 Kor.5:11).

 

Die Gees se inspirasie (v.12-15)

Tydens die Europese hervorming was daar ‘n jong Duitser genaamd Thomas Müntzer. Hy het gesê dat die Bybel nie die belangrikste in ons geestelike ervaring moet wees nie, maar dat die Gees se direkte woorde tot ons harte primêr is.  Volgens hom was Martin Luther ‘n vyand van die Heilige Gees wat die ‘dooie letter’ van die Bybel aanbid het.[3]

 

As ons egter v.12-15 bestudeer, word dit duidelik dat die Heilige Gees die Bybel geïnspireer het, en dat Hy deur die Bybel met ons praat.  Sodra ons die Bybel eenkant toe skuif, word dit onmoontlik om te weet of dit die Heilige Gees of die duiwel was wat met ons gepraat het.

 

Jesus wou nog baie ander dinge vir hulle gesê het, maar hulle kon dit nie op daardie stadium verstaan het nie (v.12). Die Gees moes eers gekom het voordat hulle die volle betekenis van Jesus en sy verlossingswerk kon verstaan (v.13).  Die Gees sou hulle in die waarheid van Christus en sy Woord gelei het (v.13, 14:6, 17:17, Ps.25:5).  Soos wat Jesus die Vader se woorde gespreek het (12:49-50), sou die Heilige Gees Jesus se woorde gespreek het (v.13).

 

Dit wat Hy vir die apostels gesê het, het Hy met Christus se gesag gespreek, sodat die woorde wat hulle in die Nuwe Testament opgeteken het, die Woord van God is (1 Ts.2:13, 4:8, 15, 1 Tm.5:18, 2 Pt.3:15-16).  Die Heilige Gees het hulle aan Jesus se woorde herinner, sodat hulle dit akkuraat neergeskryf het (14:26).  Hy het ook nuwe dinge vir hulle geleer – dinge wat nie noodwendig in Lukas of Johannes staan nie, maar in 1 Korintiërs, Judas en Openbaring (v.13).

 

Die Heilige Gees het die apostels gelei om Jesus se woorde neer te skryf, sodat Hy in die lees en verkondig daarvan verheerlik kon word (v.14). Dit is sy belangrikste bediening:  soos wat Jesus die Vader verheerlik het (17:4), sou die Heilige Gees vir Jesus verheerlik het (v.14, 5:23).  Hy het dus seker gemaak dat Jesus die middelpunt van die apostels se geïnspireerde briewe was.

 

Dit is nie dat Hy van die Vader vergeet het nie. Jesus en die Vader is een, sodat alles wat aan die Vader behoort ook syne is (v.15, 10:30, 14:9, 17:10).  Ook sy woorde kom van die Vader af (v.15, 15:15).  Daarom kan ons sê dat die apostels se woorde in die Nuwe Testament die Heilige Gees, die Seun en die Vader s’n is (v.15).  Moet dan nie val vir mense wat maak of Jesus se woorde meer gesag dra as Paulus s’n nie:  Paulus en die ander apostels se woorde is Jesus s’n!

 

Wat is die lesse wat Jesus in v.12-15 vir ons wil leer? Die Heilige Gees het die apostels en profete geïnspireer om die Bybel te skryf (v.13-15, 2 Tm.3:16, 2 Pt.1:20-21).  Ons mag nie daarby byvoeg of daaruit wegvat nie (Dt.4:2, 12:32, Sp.30:6, Heb.1:1, Op.22:18).  Die Gees gee dus nie meer vir mense geïnspireerde woorde om neer te skryf nie.  Derhalwe glo ons ook dat Hy ons in die waarheid van die Bybel lei (v.13), en nie deur nuwe openbarings in drome, visioene en profesieë nie.

 

Moet dan nie dink dat jou subjektiewe emosies en ervarings onfeilbaar is nie. Maak eerder seker dat die Heilige Gees se leiding in die Bybel jou kompas is.  So sal jy weet dat dit Gees is wat jou lei, en nie jou emosies, hormone, die duiwel, slapeloosheid, siekte, stres, vrees, voedsel vergiftiging, die newe-effekte van jou medikasie, ens. wat jou bedrieg nie.

 

Jy kan ook die Gees se werk meet deur vir jouself te vra of Jesus sentraal is (v.14). Waar mense hoofsaaklik op die Heilige Gees fokus, is dit nie die Heilige Gees nie maar ‘n vals gees.  Dit is hoekom ek nie tyd het vir kerke waarin mense ‘n ekstatiese ervaring van die Gees soek, terwyl Jesus aan die agterspeen moet suig nie.  In alles wat Hy doen, verheerlik die Heilige Gees vir Jesus.

 

Sy werk sluit onder meer die volgende in:

 

  • Hy kom na God se kinders toe om in hulle te woon en om hulle te help (v.7, 14:16-17, 1 Kor.3:16, 6:19). Hy bring die Vader en die Seun na ons harte toe (14:23, 2 Kor.13:13).
  • Hy wys vir die wêreld hulle sonde (v.8-11).
  • Hy het die apostels en profete se woorde geïnspireer (v.12-15, 14:26, 15:26-27, 2 Pt.1:20-21).
  • Hy lei ons (v.13, Ps.143:10, Rm.8:14).
  • Hy is die Skepper (Gn.1:2, Job 33:4, Ps.104:30).
  • Hy gee geestelike gawes, bekragtig ons vir diens, en help ons om van Jesus te getuig (Hd.1:8, 4:31, 1 Kor.12:4-11).
  • Hy maak ons soos Jesus en vorm sy karakter in ons (2 Kor.3:18, Gal.5:22).
  • Hy roep mense om ouderlinge te wees (Hd.20:28).
  • Hy openbaar God se liefde aan ons (Rm.5:5, Ef.3:16-19).
  • Hy sal eendag ons liggame uit die dood uit opwek (Rm.8:11).
  • Hy help ons om teen sonde te veg (Rm.8:13).
  • Hy gee vir ons sekerheid van redding en die hemel (Rm.8:16, 2 Kor.1:22, 5:5, Ef.1:13-14).
  • Hy bid vir ons en help ons om te bid (Rm.8:26-27, Ef.6:18, Jud.20).
  • Hy help ons om God te aanbid (4:24, Fil.3:3).
  • Hy gee vir ons hoop (Rm.15:13).
  • Hy maak ons een met ander Christene (Ef.4:3).
  • Hy help ons in vervolging (Fil.1:19, 1 Pt.4:14).
  • Hy maak ons heilig (2 Ts.2:13, 1 Pt.1:2).
  • Hy wederbaar ons (Tit.3:5, Jh.3:5).
  • Hy praat met ons deur die Woord (Op.2:7, 11, 17, 29, 3:6, 13, 22).

 

Soos wat jy ‘n baie duur diamant oppas en in jou kluis bêre, moet jy die Heilige Gees se teenwoordigheid in jou lewe koester. Moet Hom nie weerstaan as Hy jou van jou sonde oortuig nie (Hd.7:51). Moet Hom nie met jou sonde bedroef nie (Ef.4:30). En moenie die vlam van sy werk in jou hart uitblus nie (1 Ts.5:19). Wees eerder dankbaar vir God se grootste gawe aan jou en begeer dat Hy in jou hart sal woon.

 

[1] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.533

[2] Revival and Revivalism, p.209

[3] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 3, pp.129-130

Advertisements

‘n Waarskuwing aan gelowiges

persecuted-church

Het iemand jou al ooit in die rug gesteek? Dit is erg dat die persoon jou seergemaak het, maar wat dit erger maak is dat jy dit nie verwag het nie.  Om dan te keer dat ons omkant gevang word, het Jesus in Jh.15:18-16:4 gewaarsku dat die wêreld ons gaan haat.

 

Die wêreld se haat (15:18-21)

Ek het onlangs ‘n natuurprogram gekyk wat oor die jaarlikse ‘sardine run’ gaan. Honderde miljoene sardyne swem elke jaar van die Kaap af tot in Natal.  Naby Durban se kus wag daar vir hulle ‘n verrassing:  omtrent 5000 dolfyne, 1000 haaie, 200 000 of 300 000 malgasse (seevoëls), ‘n klomp robbe en ‘n walvis is gereed om hulle te eet.

 

Tydens die vispartytjie steur die roofdiere hulle nie aan mekaar nie. Selfs die robbe swem baie gemaklik saam met die haaie, omdat daar net een kuiergas op die spyskaart is:  sardyne.

 

En so is dit ook met die wêreld en Jesus. Die wêreld haat mekaar (Tit.3:3).  Maar wanneer dit by Jesus en sy volgelinge kom, dan staan die wêreld saam (Lk.23:12, 22:66, vgl. Hd.23:7-8).  In hulle haat vir Jesus is hulle een.

 

Die dissipels moes mekaar liefgehad het (15:17), maar die wêreld sou hulle gehaat het (15:18, 1 Jh.3:13). Hulle moes daaraan gedink het dat die wêreld vir Jesus gehaat het voordat dit hulle gehaat het (15:18).  Hulle het nie daarvan gehou dat Hy hulle sonde uitgewys het nie, en daarom het hulle Hom gehaat (7:7).

 

As die dissipels deel van die wêreld was, sou die wêreld hulle liefgehad het en na hulle geluister het (15:19, 1 Jh.4:5). Hulle het egter die dissipels gehaat, omdat Jesus hulle uit die wêreld gekies het om aan Hom te behoort (15:19, 16, 17:9, Mt.10:22, Gal.1:4).  Hulle het dit gehaat dat die dissipels nie meer soos húlle was nie (17:14, 1 Pt.4:3-4).

 

Die dissipels moes onthou het hoe Jesus in 13:16 vir hulle gesê het dat ‘n slaaf nie groter is as sy Meester nie (15:20). As die wêreld dan die Meester vervolg het, sou hulle nie teruggestaan het vir sy slawe nie (15:20, Mt.10:24-25).

 

En as hulle die Meester se Woord gehoorsaam het, sou hulle ook geluister het na die slawe wat dit verkondig (15:20, 13:20, Mt.10:40, Lk.10:16, 1 Jh.4:6).  Die wêreld sou die dissipels vir Jesus se onthalwe gehaat en vervolg het, asook omdat hulle nie die Vader geken het nie (15:21).

 

Die wêreld se sonde (15:22-25)

Die wêreld het nie ‘n verskoning gehad vir hulle haat nie (15:22-24). Deur sy lering en een-van-‘n-soort wonderwerke, het Jesus die Vader aan hulle bekend gemaak (15:22, 24, 9:32, Mt.9:33).  Dit was dan duidelik dat Hy die Messias en die Seun van God was.  As Hy hulle nie geleer het en wonderwerke gedoen het nie, sou hulle nog rede gehad het om Hom te verwerp (15:22, 24).

 

Maar nou het hulle geen verskoning gehad nie, omdat hulle die waarheid gesien en gehoor het, en nogsteeds van Hom af weggedraai het (15:22, 24, 9:41). Hulle het teen die lig gesondig, en sou dus ‘n swaarder straf ontvang het (Mt.11:22, 24, Lk.12:47-48).  In hulle haat vir Jesus het hulle ook die Vader gehaat, omdat Hy en die Vader een is (15:23, 10:30).

 

Die wêreld se haat kon egter nie die Here se verlossingsplan omvergewerp het nie. Hy het hulle haat gebruik om sy ewige raadsplan te vervul (15:25). ‘n Illustrasie sal jou help om te verstaan wat ek bedoel.[1]

 

Die wêreld is soos plat-annas (plat, slymerige paddas) in ‘n vistenk. God is die Eienaar van die vistenk.  Die plat-annas kan swem waar hulle wil.  As hulle kies om in die modder van haat op die tenk se bodem te gaan lê, dan is dit nie die Eienaar se skuld nie maar húlle s’n.  Dit is nie Hý wat hulle versoek het om Hom te haat nie (Jk.1:13).

 

Gestel die Eienaar besluit om die plat-annas van die kombuis af na die stoep toe te skuif. As die plat-annas wil, kan hulle nogsteeds in die modder van haat gaan lê.  Die Eienaar het nie met hulle besluit ingemeng nie.  Hy het egter hulle haat oorheers om sý groter besluite uit te voer.  Hulle keuse om te haat kon nie die Eienaar se ewige raadsplan ontspoor het nie.  As die Eienaar wou, kon Hy selfs die plat-annas in goudvisse verander het, sodat hulle nie meer ‘n begeerte sou hê om in die modder van haat te gaan lê nie (vgl. Paulus in Hd.9).

 

Jesus se kruisdood was deel van God se ewige raadsplan (Ef.1:11). Hy het dit reeds 1000 jaar v.C. in Ps.69:5 voorspel:  ‘Hulle het my sonder oorsaak gehaat.’ (15:25).  God het deur die wêreld se haat sy goeie plan uitgevoer, sodat sondaars gered en vergewe kon word.  Die wêreld het dit vir die slegte bedoel, maar God het dit vir die goeie bedoel (Gn.50:20).  Die plat-annas se besluit om in die modder van haat te gaan lê, kon nie die Eienaar keer om volgens sy soewereine keuse die vistenk te skuif nie.

 

Die apostels se hulp (15:26-16:4)

Sommige klein hondjies is braaf wanneer hulle by hulle eienaars is: hulle is gereed om jou op te vreet.  Maar wanneer hulle alleen is, is hulle bang.  Ander honde is klein, maar het die hart van ‘n leeu en is bang vir niks.

 

Petrus was so. Toe hy saam met Jesus in die tuin was, het hy sy swaard uitgetrek en was hy gereed om hom te verdedig.  Maar toe hy later alleen om die vuur gesit het, het hy vir Jesus verloën.  En toe gebeur daar iets wat gemaak het dat hy daarna in moeiliker omstandighede nie vir Jesus verloën het nie.  Hy het later selfs sy lewe prysgegee vir Jesus en die evangelie.  In 15:26-16:4 sien ons hoekom hy verander het.

 

Die wêreld se haat en vervolging moes nie die dissipels verhinder het om van Jesus te getuig nie. Sodra Hy weer in die hemel was sou Hy die Trooster of Gees van die waarheid – wat van die Vader af uitgaan – gestuur het om hulle te help (15:26-27, 14:16-17, 26).  Die Gees sou hulle bekragtig het om d.m.v. wonders en tekens van Jesus se opstanding te getuig (15:26-27, Hd.1:8, 4:33, Heb.2:3-4).  Hulle getuienis sou gewys het dat Hy die Messias en die Seun van God is.

 

Hoekom het Jesus spesifiek die apostels gekies om in die Gees se krag van Hom te getuig?  Dit is omdat hulle van die begin af saam met Hom was (15:27, Hd.1:21-22, 10:40-41).  Hulle het ‘n eerstehandse ervaring van sy Persoon, lering en wonderwerke gehad, en daarom kon hulle beter as enigiemand anders van Hom getuig het.

 

Die Gees sou hulle hierin gehelp het. Jesus het dit vooraf vir hulle gesê, sodat hulle nie sou wegval tydens die vervolging nie (16:1).  In hulle haat vir Jesus sou die wêreld (in hierdie geval, die Jode) hulle uit die sinagoges uit verban het (16:2, 9:22, 34, 12:42).  Die Jode was van mening dat die moord op Christene vir die Here aanneemlik is (16:2, Hd.22:3-4, Gal.1:13-14, Fil.3:6, vgl. Jes.66:5).[2]  Dít het hulle in onkunde gedoen, omdat hulle nie vir Jesus of die Vader geken het nie (16:3, 8:19, Hd.3:17, 1 Tm.1:13).

 

Jesus het die dissipels daaraan herinner dat Hy hierdie dinge vooraf vir hulle gesê het om hulle te waarsku (16:4, 1). Hy wou hulle voorberei het, sodat hulle nie omkant gevang word nie.  Die rede hoekom Hy hulle nie vroeër gewaarsku het nie, was omdat Hy by hulle was om hulle te beskerm (16:4).  Toe Hy by hulle was, was dit ‘n tyd om bly te wees en nie ‘n tyd om te treur nie (Mt.9:15).  Hulle was ook nog nie gereed vir die vervolging nie.  Jesus moes eers die Gees gestuur het om hulle te versterk, sodat hulle dit kon verduur (16:7).

 

Jesus se les in hierdie gedeelte is duidelik: as jy die Here met erns wil dien, sal jy vervolg word (15:20, 2 Tm.3:12).  Sal die wêreld jou Meester vervolg en nie vir jou nie (15:20)?  Sal die Meester se pad met dorings besaai wees en sy slawe s’n met roosblare?

 

Partykeer wil ons hê dat die wêreld van ons moet hou. Ons wil hê hulle moet mooi dinge van ons sê, en hoop dat hulle van ons kerk en ons prediking sal hou.  Maar hulle sal nie (15:18-19).  As hulle van ons hou moet ons weet dat iets nie reg is nie, en dat ons waarskynlik op die verkeerde pad is (15:19).  Jesus het gesê:  “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.” (Lk.6:26).

 

Verder hou die wêreld nie daarvan dat jy ‘n nat vaddoek is nie. Hulle haat dit as jy nie saam met die matrieks lelike dinge met die graad 8’s se ontgroening wil doen nie.  Hulle is kwaad as jy nie saam met die res van die skool onder-die-belt liedjies by die atletiekbyeenkoms wil sing om ‘gees’ te vang nie.  Hulle kan dit nie vat dat jy so ‘oudtyds’ is om te glo dat seks net vir die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou bedoel is nie.

 

Hulle skuif jou uit omdat jy nie saam met hulle by die jaareindfunksie dronk word nie. Hulle sê dat jy wetties is as jy nie saam met hulle films wil kyk waarin mense die Here se Naam vloek of saam in die bed spring nie.  Hulle sê dat jy fanaties is omdat jy nie daarvan hou om op ‘n Sondagoggend en -aand weg te bly van die kerk af nie.  Hulle haat jou omdat jou heilige lewe die donker kolle in hulle harte uitwys, en dit hulle skuldig laat voel.

 

In al hierdie dinge moet jy onthou dat die Here ‘n groter en wyser plan het, en dat Hy hierdie mense se bose planne sal oorheers en dit vir jou voordeel sal uitwerk (15:25, Rm.8:28). Onthou ook dat Hy die Heilige Gees gestuur het om jou by te staan (15:26).  Om dit te waardeer sal dit help as jy ‘n Bybelse verstaan het van wie hierdie Gees is.

 

Volgens Jesus het die Gees van die Vader af uitgegaan (15:26). Uit Jh.14-16 leer ons ook dat die Vader en die Seun Hom gestuur het (14:26, 15:26, 16:7).  Daarom word Hy nie net die Gees van God genoem nie, maar ook die Gees van Jesus, die Gees van Christus en die Gees van die Seun (Hd.16:7, Rm.8:9, Gal.4:6, Fil.1:19, 1 Pt.1:11).  As Hy van die Vader en die Seun af uitgaan het, bevestig dit dat Hy een is met die Vader en die Seun (Mt.28:19).

 

Soos die Vader en die Seun, is die Heilige Gees ewig (Heb.9:14), alwetend (1 Kor.2:10-11), alomteenwoordig (Ps.139:7-8) en ook die Skepper (Gn.1:2, Job 33:4, Ps.104:30). Hy is nie ‘n abstrakte krag soos wat die Jehova’s Getuies sê nie, maar is volkome God (Hd.5:3-4, 2 Kor.3:17-18).

 

Maar sy eenheid met die Vader en die Seun beteken nie dat Hy nie ‘n aparte Persoon is nie. Die feit dat Hy van die Vader af uitgaan het, en dat die Seun Hom gestuur het (15:26) wys dat Hy ‘n unieke Persoon is wat kan dink, voel, praat, getuig, troos, help, bid, onderrig gee en gawes uitdeel (14:16, 26, 15:26, 16:13, Hd.8:29, Rm.8:16, 26-27, 1 Kor.2:10-11, 12:11, Ef.4:30).

 

Ons glo dan dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees een God is (Dt.6:4, Jes.45:5-6) in drie Persone (Mt.3:16-17, 28:19, 2 Kor.13:13, Ef.4:4-6, 1 Pt.1:2).  En dit is hierdie Gees wat vir ewig by jou sal wees om jou te help (14:16).  Moet Hom nie verneder deur van Hom te praat asof Hy ‘n warm gevoel in jou bors is nie.  Glo in Hom, wees lief vir Hom en gehoorsaam Hom.  Aanbid en eer Hom soos wat jy dit met die Vader en die Seun doen.

 

Buiten daarvoor dat die Heilige Gees jou sal help om staande te bly, sal dit jou ook help om te onthou dat Jesus vervolging voorspel het (16:1, 4).  Hierdie les is veral belangrik as jy ‘n nuwe bekeerling is.  Moenie so naïef wees om te dink jy sal nie vervolg word nie.  Berei jouself eerder voor, sodat dit jou nie verras nie.  In die Bybel staan daar:

 

[1] “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hd.14:22).

 

[2] “ons het Timótheüs…gestuur om julle te versterk en julle te bemoedig in julle geloof, sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is. Want ook toe ons by julle was, het ons julle vooruit gesê dat ons verdruk sou word, soos dit ook gebeur het en soos julle weet.” (1 Ts.3:2-4).

 

[3] “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Pt.2:21).

 

[4] Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Pt.4:12).

 

Onthou ook asseblief dat die vervolging nie net van buite af sal kom nie, maar ook van binne af (16:2). Dit sal nie net die Moslems en Hindoes wees wat jou vervolg nie, maar ook mense wat sê dat hulle Christene is (soos wat die Rooms-Katoliekekerk in die verlede die Protestante vervolg het).  Die vervolging sal van predikante, lidmate, ouderlinge en diakens af kom.  En hulle sal dit doen, omdat hulle nie die Here ken nie (16:3).

 

Richard Wurmbrand het in Kommunistiese Romenië gebly. Hy was vir 14 jaar in die tronk en is later vrygelaat.  Kort voordat hy die land verlaat het, het hy ‘n groep van 15 seuns en dogters dieretuin toe gevat.  Hy het voor die leeus se hok gaan staan en vir hulle gesê:

 

‘Your forefathers in faith were thrown before such wild beasts for their faith. Know that you also will have to suffer.  You will not be thrown before lions, but you will have to do with men who are much worse than lions.  Decide here and now if you wish to pledge alegiance to Christ.’

 

Hy sê dat die kinders trane in hulle oë gehad het toe hulle ‘ja’ gesê het.[3]  Wat sou jý gesê het as jy daar was?  Sal jy die Here volg, al beteken dit ook dat die wêreld jou haat?

 

[1] Ek het die illustrasie aangepas en verander uit p.157 van Randy Alcorn se boek hand in Hand

[2] Mishnah Sanhedrin 9:6 aangehaal in D.A. Carson, The Gospel According to John, p.531

[3] Aangehaal in John Piper, Let the Nations Be Glad, p.79

‘n Gebed vir 2017

prayer-focus-for-2017

Oor die afgelope klomp jare het ek my voornemens vir die nuwe jaar in gebedsversoeke verander. Vandat ek dít begin doen het, het die Here my nog elke keer gehelp om dit suksesvol uit te voer.  2 Ts.1:11-12 is ook ‘n vers wat ek gereeld vir myself en vir die gemeente bid.  Let op die woord ‘resolve’ (Afr. voorneem) in v.12:

 

“…we always pray for you, that our God… may fulfill every resolve for good and every work of faith by his power, so that the name of our Lord Jesus may be glorified in you, and you in him, according to the grace of our God and the Lord Jesus Christ.” (ESV).

 

Hierdie jaar bid ek om die Here se liefde beter te verstaan. Daarom het ek besluit om vandag Ef.3:14-21 te preek.  Al is dit nie noodwendig jóú voorneme vir 2017 nie, hoop ek dat dit vir jou soos koue water in die woestyn sal wees.

 

Die God van gebed (v.14-15)

‘n Paar jaar gelede het my vriend ‘n reeks deur die Onse Vader gepreek.  Hy het ‘n geweldige ervaring van die Here se liefde en sorg gehad toe hy sy Vaderskap verstaan het.  Dit het vir hom meer vrymoedigheid in gebed gegee.  Omdat Paulus dit verstaan het, het hy ook met vrymoedigheid na die troon van genade toe gekom.  Dit is die sentrale punt van v.14-15.

 

Die Efesiërs het God se wonderlike verlossing ervaar (hfst.1-3). Paulus se gebed was dat hulle meer hiervan sou verstaan het (v.14-19).  Om sy eerbied en desperaatheid te wys, het hy voor die Here gekniel (v.14, vgl. 2 Kron.6:13, Dn.6:10, Mt.15:25, Lk.5:8, 22:41, Hd.9:40, 20:36, Fil.2:10).  Volgens Jesus se eie voorbeeld en lering het hy tot die Vader gebid (v.14, Mt.6:6, 9, 7:11, 26:39).  Ons gebede is tot die Vader, deur die Seun wat in ons plek staan, in die krag van die Heilige Gees wat ons help om te bid (v.14, 16, 17, 2:18).

 

Die Vader is die Een van wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam ontvang (v.15). Wat beteken dit?  Miskien bedoel Paulus dat die tipiese familie-patroon van ouers en kinders van God af kom:  Hy is ons Vader en ons is sy kinders.  Of dalk bedoel hy dat die gelowiges in die hemel en dié wat nog op die aarde is, God as hulle Vader het.

 

Daarom kan ons met vrymoedigheid tot Hom bid (Heb.4:16). Vrymoedigheid beteken nie dat ons disrespekvol is nie.  Paulus was vrymoedig genoeg om God sy Vader te noem, maar respekvol genoeg om sy knieë voor Hom te buig.  Die punt is nie dat jy nie mag loop of staan wanneer jy bid nie (Lk.18:13-14, Mk.11:25), maar eerder dat jy die Here se grootheid en jou nietigheid moet erken (Ps.95:6).

 

Dink dan vir ‘n paar minute oor sy grootheid en aanbid Hom voordat jy vir enigiets vra. Dit sal help as jy ‘n Psalm of ‘n ander Skrifgedeelte oor God se liefde, grootheid, Vaderskap, Wese, ens. oordink.

 

Dink ook daaraan dat God jou Vader is. Hy is beter as enige aardse pa.  Hy is volmaak en sal nooit iets doen om jou te benadeel nie.  As jy dít onthou, sal dit jou help om vrymoedigheid te hê wanneer jy bid.  Die Here wil, kan en sal jou help.  Al wat Hy van jou vra is dat jy in sy Seun moet glo.

 

Die inhoud van gebed (v.16-19)

Paulus se gebed is soos ‘n leer met vier trappe: elke trap help jou om hoër te klim, sodat jy bo kan uitkom.  Paulus het gebid dat die Efesiërs geestelik versterk sou word (v.16), dat Christus in hulle harte sou woon (v.17), dat hulle krag sou hê om sy liefde te verstaan (v.17-19a), dat hulle met die Here gevul sou word (v.19b).  Om die hoogste trap te bereik, moes hulle die eerste drie geklim het.  Kom ons klim hulle een vir een.

 

[1] Paulus het gebid dat God die Efesiërs geestelik sou versterk het in ooreenstemming met die rykdom van sy heerlikheid (v.16). Hierdie rykdom was onbeperk en kon nie uitgeput word nie (v.16, 8, Rm.11:33, Fil.4:19, Kol.1:11).  Daar was genoeg voorraad, sodat die Here hulle deur sy Gees kon versterk het (v.16).  Paulus het nie bloot vir die uiterlike versterking van siek of ou gelowiges gebid nie, maar vir die Here se innerlike versterking (v.16, 6:10, 2 Kor.4:16, Fil.4:13).

 

[2] Paulus het gebid dat Christus in die Efesiërs se harte moes woon (v.17a, 2:22). Deur die Gees het Hy reeds ingetrek toe hulle tot bekering gekom het (Rm.8:9, Gal.2:20), maar die huis van hulle harte het nog nie gelyk soos wat Hy daarvan gehou het nie.  Die gekraakte mure, stukkende teëls, druppende plafon en spinnerakke van sonde het aandag nodig gehad.  Deur die krag van die Heilige Gees was Hy besig om die huise van hulle harte reg te maak en te versier, sodat dit ‘n aanneemlike tuiste vir Hom kon wees.

 

[3] Paulus het gebid dat die Efesiërs krag sou hê om die onmeetbare dimensies van Christus se liefde te verstaan (v.17b-19a). Hulle was alreeds in die vrugbare leemgrond van sy liefde gewortel, en op die stewige fondasie daarvan vasgesement (v.17).  Nou moes hulle nog meer versadig geword het met die reën van sy liefde; Jesus wou die mure van hierdie tempel met die edelstene van sy liefde versier het (v.18).

 

Brute breinkrag was nie genoeg om hierdie liefde te verstaan nie (v.18-19). Saam met die res van die gemeente het hulle die bonatuurlike krag van die Heilige Gees benodig om iets van die breedte, lengte, hoogte en diepte van Jesus se liefde te verstaan (v.18-19, 16, Rm.5:5).

 

‘n Ondervinding wat Jonathan Edwards se vrou Sarah gehad het, illustreer wat ek bedoel. Só het sy dit beskryf:

 

‘…all night I continued in a constant, clear, and lively sense of the heavenly sweetness of Christ’s excellent and transcendent love… I seemed to myself to perceive a glow of divine love come down from the heart of Christ in heaven into my heart in a constant stream, like a stream or pencil of sweet light… there seemed to be a constant flowing and reflowing of heavenly and divine love, from Christ’s heart to mine and I appeared to myself to float or swim in these bright, sweet beams of the love of Christ, like the motes swimming in the beams of the sun, or the streams of light which come in at the window. My soul remained in a kind of heavenly elysium [paradise].’[1]

 

Die Here het vir haar siel die krag gegee om Christus se liefde te geniet. Wat Sarah Edwards beleef het, help ons om iets van Paulus se woorde te verstaan.

 

[4] Paulus het gebid dat die Efesiërs gevul sou wees met die volheid van God (v.19b, 4:13, 5:18, Jh.14:21, 23): met die Vader (v.14), die Seun (v.17, 19a) en die Heilige Gees (v.16).  Hy het basies gebid dat die Efesiërs geestelik volwasse sou word.  Om dit te bereik moes hulle die Here se liefde geken het (v.18-19).  Wat bedoel ek?

 

‘n Kind wat in ‘n liefdvolle huisgesin grootword, het ‘n beter kans om volwasse te word as een wat in ‘n huis lewe waar die ouers en kinders mekaar haat. En so is dit ook in die geestelike realm:  as jy in die warm atmosfeer van Jesus se liefde grootword, sal jy wees soos ‘n plant in ‘n kweekhuis – jy sal groei en later ook volwasse word.

 

Om volwasse te word in die Here se liefde móét jy bid soos wat Paulus in hierdie verse gedoen het.  Jy kan nie net vir jou kind se eksamen, jou ma se siekte, ‘n veilige reis Kaap toe, genoeg geld om deur die maand te kom en ‘n ander werk bid nie.  Dit is nie verkeerd om hiervoor te bid nie, maar jy kan nie daar ophou nie.  Jy moet ook (en eintlik hoofsaaklik) vir geestelike dinge bid.  Bid die gebede aan die begin van Paulus se briewe.  Bid vir:

 

[a] Blydskap, vrede en hoop (Rm.15:13).

[b] ‘n Dieper kennis van God en die wysheid om daarvolgens te lewe (Ef.1:17).

[c] ‘n Toenemende liefde en die vermoë om te kan onderskei (Fil.1:9).

[d] ‘n Heilige lewe wat die Here verheerlik (Fil.1:10-11).

[e] Krag en geduld om te volhard (Kol.1:11).

[f] Hulp om jou goeie voornemens en werke van geloof uit te voer (2 Ts.1:11).

[g] ‘n Hart wat die Here liefhet (2 Ts.3:5).

 

Die innerlike krag om hierdie dinge te doen kom nie van onsself af soos wat die Buddhiste en die New Age beweging glo nie. Dit kom van die Here af (v.16).  Ons het veral die Heilige Gees se krag nodig om Jesus se liefde te ken (v.18-19).  Hoe maklik betwyfel ons nie die Here se liefde wanneer dit met ons sleg gaan nie?  Bid dan vir die krag om dit te verstaan.

 

Moet asb. nie daarvoor bid as jy van plan is om in 2017 van die gemeentelike samekomste af weg te bly nie (ek praat nie hier van iemand wat by die gelowiges wil wees, maar te siek is om uit te kom nie).  Om die Here se liefde te ervaar moet ons dit saam met ander gelowiges geniet (v.18).  Jy gaan dit nie deur ‘n mistiese ervaring in ‘n grot of ‘n klooster kry nie.

 

Maar dit gaan ook nie soos golwe oor jou spoel net omdat jy in ‘n erediens was nie. Jy moet deur geloof na die kruis toe kom as jy die soet heuning van sy liefde wil proe (Rm.5:8, Gal.2:20, Ef.5:2, 1 Jh.3:16, 4:9-10).  Dáár sal jy sien dat sy liefde hoër is as die hemel, dieper as die hel, langer as die aarde en breër as die see (v.18, Job 11:7-9, Ps.136, 36:6, Jer.31:3, Jh.3:16, 13:1, Rm.8:38-39).  Jy sal weet dat die Here jou so liefhet soos wat Hy Homself het (Jh.15:9, 17:23).  Jy sal met ‘n dankbare hart en soos ‘n voorskoolse kind sing:

 

‘The love of Jesus is so wonderful… O, wonderful love! It’s so high you can’t get over it, it’s so deep you can’t get under it, it’s so wide you can’t get around it.  O, wonderful love!’  Jy sal die Here met jou hele hart wil liefhê, en ook jou naaste liefhê soos wat jy jouself liefhet (Mt.22:37, 39).

 

Die krag van gebed (v.20)

Charles Spurgeon se ma het vir hom gesê: ‘Ah, Charles!  I often prayed the Lord to make you a Christian, but I never asked that you might become a Baptist.’  Hy het geantwoord:  ‘Ah, mother! the Lord has answered your prayer with His usual bounty, and given you exceeding abundantly above what you asked or thought.’[2]

 

Ek weet dat Spurgeon maar net ‘n grap gemaak het, maar Paulus praat hier van dinge wat baie groter is as oor watter denominasie reg is. Hy praat van die bonatuurlike krag wat ons nodig het om Christus se oneindige liefde te ken.  En dan sê hy dat dit vir die Here baie maklik is om hierdie gebede te beantwoord – makliker as wat dit vir ons is om vir ‘n kind ‘n snytjie brood te gee (v.20, 2 Kor.9:8).  Die Here kan doen ver bo wat ons kan bid of dink (v.20).  Ons gebede en gedagtes is klein, maar die Here is groot (v.20).

 

Daar is niks wat ek en jy kan bid wat die Here nie kan doen nie (v.20, Mt.19:26, Lk.1:37). Hy kan enige gebed verhoor volgens die krag van die Heilige Gees wat in ons werk (v.20, 16).  Moet dan nie vir klein en simpel dinge bid soos om die LOTTO te wen nie.  Bid vir groot dinge bid soos om Christus se oneindige liefde te ken, en om gevul te wees met die volheid van God.  Glo dat die Here instaat is om jou te antwoord (v.20).  Die enigste beperking is die Here se almag, en daarom is daar nie ‘n beperking nie.  Dit lyk vir my of ons biddeloosheid en ongeloof die beperking is (Jk.1:6-7, 4:2).

 

Die doel van gebed (v.21)

Ek het ‘n motorfiets wedren gesien waarin die wenner met groot blydskap oor die wenstreep gery het. ‘n Paar minute daarna het een van die baan beamptes gesê dat die wenner op ‘n stadium in die resies sy voet neergesit het, en daarom gediskwalifiseer moet word.  Net so kan ons tot die regte God en vir die regte dinge bid, maar op die einde struikel omdat ons die verkeerde doel gehad het.

 

Die doel van jou gebede en die antwoorde daarop moenie wees om die lekker gevoel van God se liefde te ervaar nie, maar om die Here te verheerlik (v.21). “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.” (Jh.14:13).

 

Net soos die Here se liefde, word sy heerlikheid die duidelikste in die gemeente gesien, waarvan Christus die Hoof is (v.21, 1:22-23). Hierdie heerlikheid behoort in elke geslag en in alle gemeentes aan die Here, tot in ewigheid (v.21).  Dit sal verseker so wees:  Amen (v.21).

 

In party kerke spring mense van een ervaring na die volgende toe. Sommige bid asof die Here ‘n groot Kersvader is wat vir hulle geskenke moet gee.  Moenie so wees nie.  Fokus op die Gewer en nie op die geskenke wat Hy vir jou kan gee nie.  Dis nie verkeerd om die Here se liefde te geniet nie, maar ons moet ook nie ‘n afgod van ‘n emosionele ervaring maak nie.  ‘n Prediker van ouds het gesê:

 

‘The true-bred Christian…loves Christ for Christ… [true love] makes the soul love the gift for the Giver’s sake; it will make the soul to love the Giver without the gifts. And verily, they shall not be long without good gifts from Christ, that love Christ more than his gifts.’[3]

 

In 1762 het William Grimshaw die volgende woorde in ‘n brief gesê: ‘And now, what doth the Lord require of you, between this day and death; this new January, and the new Jerusalem?  Only love… It is heaven on earth, and heaven in heaven.  O that you may always be filled with this love, this heaven, this Christ, this God!’[4]

 

[1] Jonathan Edwards, Works: vol.1, p.lxv

[2] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, p.45

[3] Thomas Brooks, Heaven on Earth, pp.239-240

[4] Iain Murray, Pentecost Today?, p.93

Bonatuurlike beloftes

holy-spirit

Wanneer ons aan die bonatuurlike dink, dan hak ons vas by wonderwerke wat ons met ons oë kan sien. Ons dink nie daaraan dat die innerlike vrede wat die Christen-martelare op die brandstapel gehad het, ook bonatuurlik is nie.  Dit o.a. met sulke dinge wat ons in Jh.14:15-31 te doen kry.

 

Bonatuurlike hulp (v.15-17)

Ons weet dat Latyn ‘n sterk invloed op verskeie ander tale gehad het. Die Engelse woord ‘comfort’ het bv. nie altyd ‘troos’ beteken nie.  Omtrent 400 jaar gelede het dit ‘n betekenis gehad wat nader aan die oorspronklike Latyn was.  Die Latynse woord confortare beteken ‘om te versterk’.  Dit is dan ook wat die woord ‘comfort’ in ou Engels beteken het.[1]

 

Wanneer die King James Version van 1611 dan van die Heilige Gees as die ‘Comforter’ praat, beteken dit nie dat Hy ons na ‘n tyd van beproewing vertroos nie, maar eerder dat Hy ons voor en gedurende die beproewing versterk sodat ons dit kan verduur.  Hy versterk ons ook vir ons geestelike dienswerk.  Ons moet dit ook in gedagte hou wanneer die Afrikaanse Bybel van die Heilige Gees as die ‘Trooster’ praat.

 

Niemand kan dit op sy eie regkry om vir Jesus lief te wees en sy gebooie te gehoorsaam nie – jy het bonatuurlike hulp nodig (v.15-16). Dit is hoekom Jesus vir die Vader gevra het om die Trooster te stuur (v.16, Hd.2:33).  Die Trooster het van die Vader en die Seun af uitgegaan (v.16, 26, 15:26, 16:7).  Die woord ‘Trooster’ [Gk. paraklētos] beteken letterlik ‘een wat langs jou kom staan’.  Die Heilige Gees staan langs ons om ons te help.

 

Jesus het gesê dat die Heilige Gees ‘n ander Trooster is (v.16).  Dit impliseer dat Jesus ook ‘n Trooster is (1 Jh.2:1, paraklētos).  Toe Hy dan weggegaan het, het Hy vir die dissipels Iemand in sy plek gegee; Iemand wat net soos Hy is.  Hy sou vir ewig by hulle gewees het en hulle nie verlaat het nie (v.16, Heb.13:5b).  Hy is die Gees van die waarheid, die Gees wat die waarheid is (v.17, 1 Jh.5:6).  Hy openbaar die waarheid van Jesus en die Bybel aan ons (v.17, 14:6, 16:13).

 

Maar omdat die wêreld Hom nie kan sien nie, dink hulle Hy bestaan nie. Hulle ken ook nie sy lieflike Persoon nie, en daarom het hulle nie ‘n begeerte dat Hy in hulle harte moet woon nie (v.17).  Hulle kan nie sy waarheid ontvang nie (1 Kor.2:14). Ons ken Hom, omdat Hy altyd by ons is en in ons harte woon (v.17).  Ons ervaar sy kragtige werking in ons en het ‘n persoonlike verhouding met Hom.

 

Die belofte van die Gees is net vir dié wat die Here Jesus liefhet en dit deur hulle gehoorsame dade bewys (v.15, Hd.5:32). Dié wat vir die wêreld wil lewe sal nie die Gees se hulp en ondersteuning hê nie (v.17).  Hulle oortuig hulleself dat die rykdom, mense, drome en toekomsplanne waarop hulle staatmaak net so betroubaar is.  Maar nie een van hierdie dinge is nie onfeilbaar nie; dit kan misluk.  Om hierop te bou is soos om ‘n klavier oor ‘n hangbrug met verrotte planke te dra.  Die mense op wie jy vertrou kan siek word, hulle beloftes breek, vergeet, jou in die rug steek of doodgaan.  Daar is baie dinge wat jou drome en toekomsplanne in die wiele kan ry.  En jou geld kan gesteel word.

 

Ons hulp en ondersteuning is ‘n beter as dit. Die Trooster wat Jesus vir ons gestuur het is nie soos jou ‘One Stop Plumber’ wat maar net ‘n telefoon oproep weg is nie.  Hy is altyd met ons en in ons (v.17).  Daarom is die krag wat Hy vir ons kan gee onmiddellik beskikbaar.  Dit is selfs beter as toe Jesus op die aarde was, en Hy net by een groep mense op ‘n slag kon uitkom.

 

Bonatuurlike lewe (v.18-20)

Waaraan dink jy as jy die woord ‘lewe’ hoor? Dink jy aan ‘n pasgebore baba?  Of miskien aan ‘n kind wat vol energie is?  Dalk dink jy aan ‘n groen vallei ná ‘n lente reënbui:  skoenlappers, veldmuise wat bessies eet, bome, eekhorings, blomme, voëltjies en ‘n glashelder rivier.  Dink jy aan iemand wat vir lank siek was en nou weer fiks en gesond is?  Sien jy iemand wat verlief en vol lewe is?  Dink jy aan iemand wat avontuurlustig is?  Of iemand wat vriendelik is en altyd ‘n sprankel in sy of haar oë het?

 

Die volste definisie van lewe waaraan jy kan dink is nie genoeg om Jesus se lewe te beskryf nie. En dit is hierdie oorvloedige lewe (10:10) wat Hy op grond van sy eie opstanding aan die dissipels belowe het.

 

Die dissipels sou nie soos weeskinders gewees het wie se ouers hulle verlaat het nie – Jesus sou ná die opstanding na hulle toe gekom het (v.18, 20:19, 26). Oor minder as 24 uur sou die wêreld Hom nie weer gesien het nie – Hy sou in die graf gewees het (v.19).  Alhoewel Hy ná sy opstanding nie aan die wêreld verskyn het nie, het die dissipels Hom gesien (v.19, Hd.10:41-42).  Deur die Gees het Jesus sy opstandingslewe – die ewige lewe – in hulle harte uitgestort (v.19).  Daardeur het Hy ook die opstanding van hulle liggame verseker (Rm.8:11).

 

As die dissipels vir Jesus ná die opstanding gesien het, sou hulle sonder twyfel geweet het dat Hy die Seun van God is (Rm.1:4). Hulle sou geweet het dat Hy in die Vader is en die Vader in Hom (v.20).  Ná sy hemelvaart sou hulle ook geweet het dat Hy in hulle is, omdat Hy dán die Heilige Gees op hulle sou uitstort (v.20, 7:39).

 

Woon Jesus deur die Heilige Gees in jou hart; het jy al sy lewe in jou hart ontvang? Nee?  Glo dan in Jesus (3:15-16, 36).  Glo dat Hy die Seun van God is.  Glo dat Hy die sondeskuld wat jy by Hom gemaak het met sy eie bloed betaal het aan die kruis.  Soos wat ‘n sambreel die reën keer en jy droog bly, het Jesus God se oordeel afgeweer sodat dit jou nie kan seermaak nie.  Glo ook dat Jesus uit die dood uit opgestaan het en sy eie lewe in jou siel kan uitstort.  Ken Hom.  Dit is mos wat die ewige lewe is, nie waar nie (17:3)?

 

Bonatuurlike openbaring (v.21-24)

Is dit moontlik om die Stille Oseaan se water in jou opslaan-swembad in te pas? Is dit moontlik om die stof van die aarde in ‘n uurglas in te pas?  Is dit moontlik om die sterre van die heelal in jou garage te bêre?  Dom vrae, nie waar nie?

 

Maar is dit moontlik vir die ewige en oneindige God om in ‘n mens se hart te woon? Ja.  So leer Jes.57:15 vir ons:  “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam:  Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”  Maar hoe is dit moontlik?  Ek weet nie, maar dis waar.  En dit is die punt wat Jesus in v.21-24 wil maak.

 

Weer het Jesus gesê dat gehoorsaamheid die bewys is of iemand Hom liefhet of nie (v.21, 24). Dié wat Hom só liefgehad het sou die Vader en die Seun se liefde in homself ervaar het (v.21).  In sy groot liefde sou Jesus Homself deur die Heilige Gees aan hierdie persoon geopenbaar het (v.21).

 

Judas die seun van Jakobus (Lk.6:16, Hd.1:13) het ‘n hart vir die wêreld gehad, en het daarom nie verstaan hoekom Jesus Homself nie aan die wêreld gaan openbaar nie (v.22). Was Hy nie veronderstel om die wêreld te verstom deur sy groot heerlikheid aan hulle te openbaar nie?

 

Jesus het geantwoord dat die Vader dié mense spesiaal liefhet wat die Seun van God liefhet en sy Woord gehoorsaam (v.23). Die Vader en die Seun sou deur die Heilige Gees in dié persone se harte gewoon het (v.23, 2 Kor.6:16, 1 Jh.2:24, Op.3:20).  So sou die Drie-Enige God in sy kinders gebly het.  Ons weet dat hierdie lering waar is, omdat Jesus se woorde van die Vader af kom (v.24).

 

Wat is Jesus se les in hierdie verse? Elke mens soek liefde.  Die meeste mense soek dit op die verkeerde plekke en nie in die Here nie.  Net sy liefde kan die leemte in mense se harte vul.  En dit is dié liefde wat ons moet begeer.  Ons moet bid om iets van die hoogte, lengte, breedte en diepte van Jesus se liefde te verstaan (Ef.3:18-19).  Om sy liefde te ervaar moet ons met die kaalvoete van bekering en die leë hande van geloof na die kruis toe kom, want daar sien ons die volste openbaring van sy liefde (1 Jh.4:9).

 

As jy dit eers gesmaak het, moet jy nie ophou om dit te soek nie. Jy sal nie wil nie.  Bid dan saam met Paulus om meer hiervan te ervaar.  Bid om met die Gees vervul te word (Ef.3:16, 5:18).  Bid dat Christus die huis van jou hart sal versier soos wat dit vir Hom aanneemlik is (Ef.3:17).  Bid dat God jou hart met Homself sal vervul (v.23, Ef.3:19).

 

Wees egter versigtig om nie net die ervaring te soek nie, maar vir God self (v.23). ‘Young converts…must be taught that Jesus Himself, and not the comforts He gives, is their life.’[2]  Jaag dus na liefde vir God en gehoorsaamheid aan Hom, en nie na die lekker gevoel wat Hy vir jou kan gee nie.

 

Bonatuurlike lering (v.25-26)

Oor die afgelope dekade of so het ek baie geleer oor die subjektiewe en objektiewe leiding van die Heilige Gees. Iemand wat in subjektiewe leiding glo, dink dat enige geestelike gedagte, gevoel, droom, raad van ander gelowiges, prikkeling van die gewete, of gunstige omstandighede die Heilige Gees is.  Dié wat in objektiewe leiding glo dink dat die Heilige Gees ons net deur die Bybel lei.  Watter een van die twee is reg?  Die Bybel leer vir ons dat dit ‘n kombinasie van die twee is (sonder dat ons in nuwe openbaring glo).  Maar in v.26 gaan ons meer op die objektiewe leiding van die Gees fokus.

 

Jesus wou hierdie dinge vir die dissipels gesê het terwyl Hy nog by hulle was (v.25). Daar was nog ander dinge wat Hy vir hulle wou gesê het, maar hulle sou dit eers ná sy opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees verstaan het (v.26, 16:12-13, 2:22. 12:16).  Soos wat Jesus in die Vader se Naam gekom het (5:43), sou die Trooster of die Heilige Gees in Jesus se Naam gekom het (v.26).  Soos wat Jesus die Vader se woorde gespreek het (v.24), sou die Heilige Gees Jesus se woorde vir die dissipels geleer het (v.26, 16:14-15).  Alleen kon hulle nie Jesus se woorde akkuraat weergegee het nie.  Hulle het die Gees nodig gehad om hulle aan Jesus se presiese woorde te herinner (v.26).  Hý sou hierdie woorde geïnspireer het.

 

Deesdae is dit populêr vir mense om te sê dat die Heilige Gees hulle geïnspireer het om ‘n skildery te verf en ‘n instrument te speel, of om ‘n gedig, ‘n liedjie en ‘n boek te skryf. Ek ontken nie vir ‘n oomblik dat dit die Here is wat vir mense hierdie talente en gawes gegee het nie.  Maar dit is onsin om te sê dat die Heilige Gees hulle hiervoor geïnspireer het.

 

Die Heilige Gees het die apostels en die profete geïnspireer om die Bybel te skryf (v.26, 2 Tm.3:16, 2 Pt.1:20-21).  As Hy dan hierdie mense se pogings op dieselfde manier geïnspireer het, moet ons sê dat hulle werke op dieselfde vlak as die Bybel is.  Ek weet dat die Gees ons vandag nog in die waarheid lei en aan Bybelverse herinner.  Maar dit is baie naby aan lastering om te sê dat jou geestelike ervarings op dieselfde vlak as die Bybel geïnspireer is.

 

Bonatuurlike vrede (v.27-31)

Baie mense dink dat die Jehova’s Getuies hulle Bybels goed ken. Maar oor die afgelope jaar of twee het ek gesien dat hulle net sekere verse ken, en dat hulle nie die betekenis van hiervan verstaan nie.  Soos enige ongelowige, het hulle nie die vermoeë om die geestelike dinge van God se Woord te verstaan nie (1 Kor.2:14).  Hulle weet nie hoe om ‘n vers uit te lê, die woorde te verduidelik, of die vers binne sy konteks te verstaan nie.

 

Jh.14:28 is een so ‘n vers. Volgens húlle bewys hierdie vers dat Jesus nie God is nie.  Maar soos gewoonlik fokus hulle net op ‘n gedeelte van die vers.  Hulle doen nie eers moeite om die hele vers aan te haal en vra wat dit beteken nie.  Ons wil nie soos hulle wees nie, en daarom is dit belangrik dat ons ‘n bietjie dieper moet delf.  Kom ons kyk ook sommer na die verse voor en na v.28.

 

Deur die Gees het Jesus vir die dissipels vrede gebring (v.27, Gal.5:22). Die Gees sou hierdie ongekende vrede in hulle harte en gewetens ingeplant het.  Christus se vrede sou hulle in hulle onsteltenis gehelp het (v.27, 1, 16:33).  Dit sou hulle ook in tye van vervolging gehelp het.  Hierdie was nie die tipiese oppervlakkige vrede van die wêreld nie (v.27, Jer.6:14).  Dit kon nie deur omstandighede weggevat word nie; dit was ‘n innerlike en Goddelike vrede (Fil.4:7, Kol.3:15).

 

Die dissipels sou onthou het hoe Jesus vir hulle gesê het dat Hy weggaan en weer na hulle toe sal kom. Dit het hulle harte ontstel (v.1).  Maar as hulle Hom liefgehad het, sou hulle bly gewees het dat Hy weer na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter is as Hy (v.28).  Wat beteken dit?

 

Jesus het nie bedoel dat die Vader meer Goddelik is as Hy nie (1:1, 5:18, 10:30). Hy het gesê dat Hy na die Vader toe terugkeer, omdat die Vader groter is as Hy.  M.a.w.:  ‘Ek het my hemelse rykdom en heerlikheid verlaat om ‘n mens te word en My aan die Vader se gesag te onderwerp (Fil.2:6-7).  In hierdie opsig is die Vader groter as Ek.  Maar nou keer Ek terug na die Vader toe, sodat Hy nie meer groter as Ek sal wees nie.  Ek sal weer op my Goddelike troon gaan sit en die heerlikheid ontvang wat Ek gehad het voordat Ek die wêreld gemaak het (17:5).’  Dít is wat Jesus in v.28 bedoel het.

 

Die feit dat Jesus hierdie dinge vir die dissipels gesê het voordat dit gebeur het, bevestig dat Hy God is (v.29, Jes.41:23, 42:9). Maar vir tyd en wyl het Hy genoeg met hulle gedeel.  Daar was nie tyd om nóg te sê nie, omdat die regeerder van die bose wêreldsisteem – Satan – die Jode en die Romeine aangehits het om vir Jesus te kruisig (v.30, 12:31, 2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19).

 

Die duiwel sou egter nie gewen het nie, omdat hy nie ‘n houvas op Jesus gehad het nie (v.30). Jesus het elkeen van die Vader se gebooie gehoorsaam (v.31), en het dus nie sonde gehad waaraan die duiwel soos ‘n parasiet kon vassuig nie (8:46, 1 Pt.2:22).  Op die laaste dag sou die hele wêreld erken het dat Hy die Vader volmaak liefgehad het en gehoorsaam het (v.31, Fil.2:8-11).  Toe Jesus dit klaar gesê het, het Hy en die dissipels die bovertrek verlaat om Getsemane toe te gaan (v.31).

 

Vir die dissipels is dít die rede hoekom hulle vrede nodig gehad het. Maar in jou geval is dit iets anders.  Is jou hart ontsteld omdat mense jou kritiseer, aanval, beskinder of valslik beskuldig?  Het jy probleme in jou verhouding met iemand anders?  Het jy miskien probleme in jou familie, met jou kinders, jou ouers of in jou huwelik?  Is jy onseker oor die toekoms?  Wens jy vir ‘n lewensmaat?

 

Het die planne wat jy gemaak het nie uitgewerk soos wat jy gehoop het nie? Bid jy al vir ‘n lang tyd, maar die Here antwoord nie?  Sukkel jy met siekte, of het jy miskien ‘n geliefde wat siek is?  Rou jy oor iemand wat dood is?  Sukkel jy by die werk?  Trek jy swaar:  emosioneel, finansieel of geestelik?  Voel dit of sonde die oorhand oor jou kry – jy probeer om te wen, maar val elke keer weer?  Het jy wysheid nodig en jy weet nie watter kant toe nie?  Of watse probleme het jy?

 

Jesus het gekom om vrede te bring (v.27). Dit is nie maar net ‘n subjektiewe emosionele vrede nie, maar ‘n objektiewe vrede.  Die fondasie daarvan lê aan die voet van die kruis.  Deur sy kruisdood het Jesus vrede tussen God en mens gebring (20:19, 21, 26, Rm.5:1, Kol.1:20).  As jy nie hierdie objektiewe vrede het, kan jy Hom vertrou om vir jou die subjektiewe vrede in jou hart te gee.  Hoe kry jy dit?

 

Gee jou sorge in gebed aan die Here oor, dank Hom dat Hy so almagtig en gewillig is om jou te help (Fil.4:6). Geniet dan die onbeskryflike vrede wat Hy selfs in die moeilikste omstandighede vir jou kan gee (Fil.4:7, Hd.16:22-25).  Hou ook aan om opsetlik aan die Here en sy goedheid te dink, sodat gedagtes van vrees en angs jou nie in die see van mismoedigheid laat verdrink nie (Fil.4:8).  Wees ook gehoorsaam, omdat sonde die groot dief is wat gelowiges se vrede steel (Fil.4:9).  Vra dan laastens vir die Heilige Gees om hierdie vrede vir jou te gee (Rm.15:13).

 

Natuurlik is dit vir ‘n ongelowige moontlik om in moelike tye innerlike vrede te hê. Dink maar aan sommige Buddhiste, Hindoes, of Katolieke martelare.  En tog is dit maar die uitsondering op die reël.

 

Verder is dit ook ‘n vals vrede. Wanneer hierdie mense hulle oë anderkant die graf oopmaak, gaan hulle ontnugter wees.  Daarom het ek vroeër gesê dat die mens se subjektiewe innerlike vrede op die objektiewe vrede van Jesus se kruisdood gebou moet wees.  Eintlik is die kruis die basis vir al die bonatuurlike beloftes van God.

 

[1] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.499

[2] Duncan Matheson aangehaal in Iain Murray, The Old Evangelicalism, p.195

Wat maak Christene anders?

God is love

As jy ‘n huis bou en nie sement tussen die stene sit nie, sal ‘n stoute en woelige Boerboel die mure kan omspring. Die sement is dit wat alles aanmekaar hou, sodat dit nie soos ‘n huis van kaarte inmekaar tuimel nie.  Net so is liefde die sement wat elke goeie werk, karakter eienskap, en daad van gehoorsaamheid bymekaar hou.  Paulus sê dat liefde alles in ‘n volmaakte eenheid saambind (Kolossense 3:14).  Sonder liefde beteken die grootste dade van opoffering niks nie (1 Korintiërs 13:3).  Dít is dan wat Christene anders maak:  liefde.  Johannes wys dit vir ons in 1 Johannes 4:7-21.

 

God se liefde (v.7-12)

Elisabet en Magda is in graad 3. Elisabet se ouers is lief vir haar, sorg vir haar, is daar as sy hardloop, kom na haar prysuitdeling toe, help haar met haar huiswerk, vat haar jeug en Sondagskool toe, ry saam met haar fiets, koop vir haar roomys, swem saam met haar in die see, lees vir haar stories voor sy gaan slaap, ens.  Magda se pa is afwesig.  Haar ma sê sy haat haar en wou haar nie hê nie.  Haar ma stel nie belang in haar sport nie, los haar om self met haar skoolwerk te sukkel, laat haar heel Saterdag voor die TV sit, het mans wat by haar oorbly, sê vir Magda om drank aan te dra by partytjies, laat haar tot 19:00 by die naskool wag, ens.  ‘n Mens kan in die meisies se optrede sien wie uit ‘n goeie ouerhuis kom en wie nie.  Elisabet is vrolik, sprankelend, werk netjies, is gesond, en het dissipline.  Magda se werk is agter, haar kop hang, sy het kwaad in haar, sy baklei, en sy luister nie vir die juffrou nie.  In die geestelike realm kan jy sien wie ‘n goeie en liefdevolle hemelse Vader het, en wie die duiwel as sy vader het.  ‘n Gelowige weet God is liefde en het Hom lief.  Hierdie liefde vul sy hart en spoel oor in ‘n liefde vir ander.

 

Ons moet vals lering uitken (v.1-6). Maar dit help nie jy ken dit uit, en het nie liefde in jou hart nie (v.7, Openbaring 2:2, 4).  Iemand wat God ken en uit Hom gebore is, kan nie anders as om die broers lief te hê nie, want liefde kom van God af en Hy is liefde (v.7-8).  God is liefde in sy wese en die Fontein waaruit al die strome van liefde vloei (v.8, Johannes 17:24, 3:35, Romeine 15:30).  Iemand wat dan nie die broers liefhet nie, ken Hom nie (v.8).

 

God het sy liefde vir ons gewys toe Hy sy enigste Seun aarde toe gestuur het, sodat ons nie in die hel sou sterf nie, maar vir ewig kan lewe (v.9). God se liefde is duidelik in Jesus wat sy vyande se verdiende straf op Homself geneem het aan die kruis (v.10, 2:2, Romeine 3:25).  Liefde vir die broers ontspring nie uit onsself nie, maar stroom in ‘n rivier uit Jesus se kruiswonde (v.10, 19).  Die kruis moet ons harte verander sodat ons die broers sal liefhê (v.7).  Die kruis is ook die bloudruk en voorbeeld van ons liefde vir die broers (v.7, 3:16).

 

God het ons gered, vergewe, en verwelkom (v.11). Hoe kan ons mekaar dan nié liefhê nie (Matteus 18:21-35)?  Al kan ons Hom nie sien nie (v.12, 1 Timoteus 6:16), sal mense Hom en sy liefde in ons sien as ons mekaar liefhet (v.12, Johannes 13:34-35).

 

Verstaan God se liefde vir jou. God het jou nie lief vir wie jy is, maar ten spyte daarvan (Romeine 5:8).  Hy is lief vir die wêreld wat Hom haat en verwerp (Matteus 5:45, Markus 10:21, Lukas 6:35, Johannes 3:16).  As jy dink jy is lieflik en Hy kon jou nie weerstaan nie, sal jy jouself liefhê eerder as vir Hom.  As jy in sonde leef en dink:  ‘Hy is lief vir my net soos ek is,’ sal jy versoek wees om te bly soos jy is.

 

Pasop dat jy nie in die ander sloot val en sy liefde betwyfel nie. Dit gebeur veral as jy ly, onseker is oor jou redding, in sonde val, of alleen is in jou oudag.  Maar in hierdie tye is God se liefde juis die anker wat moet keer dat jy sink.  Hy het jou liefgehad met ‘n ewige liefde (Jeremia 31:3).  Uit liefde het Hy jou voor die grondlegging van die wêreld gekies om sy eiendom te wees (Efesiërs 1:4-5).  Dit is onnodig dat jy twyfel.

 

Charles Spurgeon vertel van ‘n vrou wat so getwyfel het.[1]  Sy het gesê dat sy geen hoop het nie, en dat sy skynheilig is.  Die gesprek het so geklink:

 

Spurgeon: Moet dan asseblief nie meer kerk toe kom nie, want ons soek nie skynheiliges daar nie.  Hoekom kom jy?

 

Vrou: Ek kan nie wegbly nie.  Ek is lief vir God se kinders, lief vir sy huis, en wil Hom graag aanbid.

 

Spurgeon: Wel, jy is ‘n snaakse tipe skynheilige; ‘n vreemde soort ongelowige.

 

Vrou: Jy kan sê wat jy wil, ek het geen hoop om gered te word nie.

 

Spurgeon: Wel, volgende Sondag sal ek jou vra om in die kansel te staan, sodat jy vir almal kan sê Jesus Christus is ‘n leuenaar en jy kan Hom nie vertrou nie.

 

Vrou: O!  My hart sal in twee skeur voordat ek so iets sê.  Hy kan nie jok nie.  Al sy woorde is waar.

 

Spurgeon: Hoekom glo jy dit dan nie?

 

Vrou: Ek glo dit, maar glo nie dat dit vir my is nie.

 

Spurgeon: Het jy geen hoop nie?

 

Vrou: Nee.

 

Spurgeon: Hier is vir jou £5.  Dis al wat ek het, maar ek sal dit vir jou gee as jy jou hoop aan my verkoop.

 

Vrou: Ek sal dit nie vir ‘n duisend wêrelde verkoop nie!

 

Hou op twyfel Christen. God is lief vir jou en niks kan jou van sy liefde skei nie – ook nie ouderdom of siekte nie (Romeine 8:35, 37-39).  Bid en peins oor die kruis, sodat jy sy onmeetbare liefde kan ken (Efesiërs 3:18-19).  R.A. Torrey was eenkeer so oorweldig deur God se liefde, sodat hy vir ‘n lang tyd gehuil het.  Op die einde het hy gevra dat God dit nie verder aan hom moes openbaar nie, omdat hy dit nie kon dra nie.[2]  Op 15 Maart 2014 het ek ‘n soortgelyke ervaring gehad.  Dit was onvergeetlik.  God se liefde is nie soos ‘n man wat sy vrou los of ‘n ma wat haar kind weggooi nie (Jesaja 49:14-16).  Sy liefde duur vir ewig (Psalm 136).

 

Hoekom moet jy sy liefde vir jou verstaan? Want eers dan kan jy liefhê (v.7, 19).  As jy sy liefde verstaan sal jy ook uitsien na die hemel, ‘n wêreld van liefde.  Hoe sal ‘n wêreld lyk waarin jy God en jou naaste altyd volmaak liefhet?

 

God se Gees (v.13-16)

‘n Bejaarde predikant het vir ons vertel hoe hy in sy jongdae by ‘n slaghuis gewerk het, en in hierdie tyd tot bekering gekom het. Op ‘n dag het hy vir sy kollegas gesê:  ‘Julle sê daar is nie ‘n Christus nie, en God bestaan nie.  Maar sê vir my: Wie het my verander?’  Hulle het hulle koppe laat sak en nie ‘n woord gesê nie.  Dis die Heilige Gees wat maak dat ons Jesus se liefde ervaar, verstaan, en daarop reageer sodat ons mekaar liefhet (Romeine 5:5, Galasiërs 5:22).  Dit is basies Johannes se punt in v.13-16.

 

Hoe kan jy verseker wees God woon in jou en jy in Hom (v.12-13)? Die Gees oortuig jou dit is so (v.13).  Maar hoe weet jy dit is God se Gees en nie ‘n vals gees nie?  ‘n Vals gees sal jou nie help om die broers lief te hê nie (v.12).  Soos die Gees getuig dat jy gered is, getuig die apostels ook in die Skrif daarvan (v.14, 1:1, Johannes 15:26-27).  Jesus is die Verlosser van die Jode, maar ook van die wêreld (v.14, Johannes 4:42).  As jy bely dat Hy die Seun van God is, is sy Gees in jou en behoort jy aan God (v.15).  Deur sy kruisdood en die Heilige Gees, kan jy God se liefde ken en glo dit is vir jou (v.16).  God is liefde (v.16).  As jy liefhet wys dit jy is in God en sy Gees in jou (v.16).

 

Die Heilige Gees is die waarborg en seël dat jy in die hemel sal ingaan (Efesiërs 1:13-14, 4:30). Sonder die Heilige Gees in jou, is jy voor die hemelpoorte soos ‘n seuntjie wat hoop om met ‘n ou fliek kaartjie die wêreldbeker op Loftus te kyk.  Maak dan seker Hy is in jou.  Jy kan Hom nie kry deur die broers lief te hê nie, maar as Hy in jou is sal jy die broers liefhê.  Hoe kan jy Hom kry?  Hy sal net in jou woon as jy die strydbyl van sonde neerlê, as jy die wit vlag waai en erken Jesus is die Seun van God, die Here en Verlosser van sondaars (v.15).  ’n Nuwe en opregte liefde vir God en ander sal wys dat die Gees in jou is.  Bid vir meer van die Gees, gehoorsaam Hom volgens die Skrif (Lukas 11:13, Efesiërs 5:18, Galasiërs 5:16).  Die mense rondom jou sal weet dat jy nie net jou sokkies opgetrek het nie, maar dat iets in jou gebeur het, dat iets binne-in jou anders is.  Sendelinge soos Robert Moffat en John Paton sal vir jou sê dat daar ’n wêreldse verskil is tussen ‘n inboorling wat die Gees in sy hart het, en die onbeskaafde barbaar wat nie die Naam van Jesus ken nie.

 

God se wet (v.17-21)

Wat sê dit van ‘n land en haar regering se gesondheid as dwelms, aborsie, poligamie, prostitusie, en pornografie wettig is; as tugtelose en rebelse kinders regte het wat deur die grondwet beskerm word? Wat sê dit van ‘n volk en haar Koning as daar ‘n wet van ware en opregte liefde in hulle harte gebrand is; as hierdie wet nie net ‘n eksterne wet is wat afgedwing word nie, maar ‘n diep geestelike drang in hulle om te doen wat die Koning wil hê; ‘n wet wat in hulle harte gegraveer is sodat hulle gesag respekteer, asook ander mense se lewens, reinheid, eiendom, en reputasie?

 

Die Skrif sê: “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê:  Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk… En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” (Deuteronomium 4:6, 8).

 

Geen volk of godsdiens het sulke wyse en wonderlike wette soos God s’n nie. Jesus se wet van liefde maak dat ons anders is as die res (v.17-21).

 

As God in jou bly en jy in Hom (v.16), groei sy volmaakte liefde in jou soos ‘n dogtertjie wat in ‘n beeldskone vrou verander (v.17, 12, 2:5). Sy liefde wat deur jou na ander toe vloei, wys sy Gees woon in jou en jy is waarlik gered.  Net soos wat Jesus op aarde God se Seun was, is ons dit ook (v.17, 3:1).  Daarom hoef jy nie die oordeelsdag te vrees of te dink jy gaan dit nie maak nie (v.17-18, vgl. 2:28, 3:21).  Die liefde in jou hart bevestig jy is gered.  Hierdie liefde gooi vrees vir die oordeelsdag soos ‘n inbreker by die deur uit (v.18).

 

Maar iemand wat haat moet straf verwag en het rede om te vrees (v.18). As jy straf vrees pla jou gewete jou oor jou liefdelose, bitter, onvergewensgesinde hart en denke (v.18).  Maar as jy God en ander liefhet, is vrees vir die oordeelsdag onnodig (v.18, Romeine 8:15, 2 Timoteus 1:7).  Liefde vir God en die broers wys dat Hy en sy liefde in jou is (v.19-20).  As jy God se sigbare beeld in jou broer haat, kan jy onmoontlik die onsigbare God liefhê – al jy ook jy het Hom lief (v.20, 12, 3:17, Matteus 25:34-46).  Jesus se gebod was dat ons mekaar moet liefhê (v.21).  Wie Hom liefhet sal hierdie gebod uitvoer (v.21, 14:15).

 

Gehoorsaam die groot gebod om God en jou naaste lief te hê (Matteus 22:37-40). Totdat die Gees nie God se liefde op jou hart gestempel het en jy by hierdie fees aansit nie, sal jy nooit vir God of jou naaste lief wees nie (v.19).  M.a.w. om die liefdesgebod uit te voer moet jy gered wees.  ‘n Ongeredde persoon kan ook sy ‘naaste’ liefhê, maar vir hom is sy naaste slegs dié wat hom terug liefhet.  Die gelowige is anders en is lief vir dié wat die lewe vir hom moeilik maak, hom misbruik, en sosiaal in ‘n ander klas is (Lukas 6:27-36, 10:25-37).  Hy weet ook dat dit maklik is om jou skoonma lief te hê as sy in die Kaap of in Kanada bly, en jy haar net elke ses maande sien.  ‘n Ware gelowige is lief vir dié wat elke dag onder sy neus is (v.20-21).  Hy doen dit omdat hy God liefhet (v.19-20), en nie omdat hy die hel vrees nie (v.17-18).

 

Hy besef dat dit nie help hy hou die kleiner gebooie, terwyl hy die grootste een nalaat nie. Hy gee nie geld, kom kerk toe, lees die Bybel, bid, ken vals lering uit, ly geduldig, en volhard, terwyl die gebod om lief te hê op die rak lê en stof vergader nie (Matteus 23:23, Hosea 6:6, Openbaring 2:2-5).  Hy sorg dat alles wat hy doen in liefde geskied, en dat die grootste gebod die kleineres dryf (1 Korintiërs 16:14).  Net ‘n hart van klip kan God se diep liefde verstaan en onaangeraak bly (v.19).

 

‘n Sekere Frederick Lehman (1868-1953) het ‘n bekende gedig oor God se liefde vertaal. Die gedig se laaste vers lui:

 

Could we with ink the ocean fill,

And were the skies of parchment made,

Were every stalk on earth a quill,

And every man a scribe by trade,

To write the love of God above,

Would drain the ocean dry.

Nor could the scroll contain the whole,

Though stretched from sky to sky.

 

Iemand wat hierdie waarheid in sy hart verstaan het, se lewe kan nie dieselfde bly nie. Dit móét verander, nie waar nie?

[1] Autobiography: vol.1, p.202 (vry vertaal)

[2] D.A. Carson, A Call to Spiritual Reformation, pp.193-194

Pasop vir die antichris

Sheep with sharp teeth

Waaraan dink jy as jy die woord Antichris hoor? Die merk van dier, die 666?  ‘n Elektroniese mikroskyfie in jou regterhand en op jou voorkop?  Moeilike tye, demoniese aktiwiteit, ‘n sukkelende kerk, en swaar vervolging?  ‘n Bose man wat in die herboude Jerusalemse tempel sit?  Oorlog en chaos in Israel, of meer spesifiek, in Jerusalem?  Rusland, Irak, Amerika, en Israel?

 

Ek wonder hoeveel dink aan gewone mense met kispakke, dasse, en mooi klere wat in ‘n kerkgebou sit en luister hoe ‘n man praat oor Jesus wat nie gelyk is met die Vader nie? Hoeveel dink aan studente in ‘n klaskamer wat luister hoe die dosent vertel van Jesus wat op dieselfde vlak is as Buddha, Ghandi, en moeder Theresa?  Hoeveel dink aan boeke in CUM wat sê ons moet vir Jesus toestemming gee om in die wêreld te werk, boeke wat sê Jesus het aan die kruis opgehou om die Seun van God te wees?  Hoeveel dink aan teoloë wat in die Beeld sê Jesus is nie uit ‘n maagd gebore nie, en het nie liggaamlik uit die dood uit opgestaan nie?  Volgens 1 Johannes 2:18-27 is dít die antichriste vir wie jy moet oppas.

 

Kenmerke van die antichris (v.18-23)

Koos trek van die binneland af kus toe. Hy hoor van die ‘crowbar’ bende wat by huise inbreek en binne vyf minute soveel as moontlik steel:  TV’s, tablette, rekenaars, klere, karre, ens.  Terwyl hy op elke moontlike wyse voorsorg tref, vergeet Koos van die roes en vismotte wat deur sy kar en klere vreet.  Net so kan óns vreesbevange op die finale Antichris wag, terwyl ons nalaat om te waak teen die kleiner antichriste wat groot skade in die kerk kan verrig.  Dit is juis teen die kleiner antichriste wat Johannes ons in v.18-23 waarsku.

 

In vergelyking met die ewigheid, is die eeue tussen die kruis en die wederkoms maar net ‘n laaste uur (v.18). Vir God is ‘n duisend jaar soos een dag (2 Petrus 3:9).  Ander verse in die Bybel praat van hierdie tyd as die laaste tye of dae (Hebreërs 1:1, 1 Petrus 1:20, 1 Timoteus 4:1, 2 Timoteus 3:1, Jakobus 5:3).  Die lesers van Johannes se brief het in Daniël 11, Matteus 24, en 2 Tessalonisense 2 gehoor dat die Antichris kom (v.18, vgl. Openbaring 13).  Daar het hulle gehoor dat die Antichris homself as ‘n god sou verhef en die ware God laster.  Met Satan se mag sal hy vals wonders doen.  By sy koms sal Jesus hom met die asem van sy mond vernietig.

 

Die feit dat daar reeds baie antichriste was, het bewys dat die laaste een ook sou kom (v.18). Enigiemand wat teen die Bybelse Jesus leef en preek is die antichris (v.22, 4:3, 2 Johannes 7).  Hierdie is mense wat nie volhard nie, maar wegval uit die gemeenskap van gelowiges (v.19).  Op papier is hulle deel van die gemeente, maar hulle was nooit innerlik deel nie, want anders sou hulle daar gebly het en nie weggeloop het nie (v.19).  Die feit dat hulle weggeval het, maak duidelik dat hulle ongered is (v.19).  Die Skrif sê:

 

  • “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matteus 24:13).
  • “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou”(Hebreërs 3:14).
  • “Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word.” (1 Korintiërs 11:19).

 

Die vals leraars kom van binne af en nie van buite nie – pasop (v.19, Handelinge 20:30)! Jesus, die Heilige Een (Markus 1:24), salf die ware gelowiges met die Gees, sodat alle gelowiges die ware kennis van Christus het (v.20, 2 Korintiërs 1:21-22, Johannes 1:33, 14:26, Kolossense 1:28).  Hierdie ware kennis kom nie deur die gnostiese vals leraars nie, maar deur die Gees se woorde in die Skrif (v.21, 1 Korintiërs 2:12-16).

 

Daar is geen leuen in die Gees se woorde nie (v.21, 5:6, Johannes 17:17, 14:6), en daar is nie waarheid in die vals leraars se woorde nie (v.21, Johannes 8:44). Die vals leraars het gesê dat Christus in die Jordaan rivier op die menslike Jesus gekom het, en Hom weer verlaat het aan die kruis.  In v.22 sê Johannes dat iemand wat so sê lieg:  hy is die antichris.  Iemand wat die Seun ontken, ontken ook die Vader, want Jesus en die Vader is een (v.22-23, Johannes 10:30, 5:23, 8:19, 15:23).  Iemand wat in sy hart die Seun as sy Verlosser, Here, en Messias erken en bely, het ook die Vader (v.23, Romeine 10:9).

 

Pasop vir die antichris. Miljoene mense is in die hel, omdat hulle nie gewaak het nie.  Om dit reg te kry moet jy v.18-23 in die moderne idoom vertaal.  Hierdie mense is selfaangestelde leiers wat praat asof die gemeenskap van gelowiges onbelangrik is (v.19).  Hulle bely dat hulle Christene is, maar het nie ‘n belang in die kerk nie (v.19).  Johannes ken net twee kategorieë:  as jy nie binne die kerk is nie, is jy buite (v.19).  As jy nie in die kerk is nie, is jy in die wêreld en ongered.  Hierdie mense se houding teenoor die liggaam van Christus is ‘n aanduiding van hulle houding teenoor die Hoof.  Ek vra mooi dat jy nie die kerk as opsioneel beskou nie.  Moenie sê jy hoef nie in die kerk belang te stel, en kan nogsteeds ‘n ware Christen wees nie.  As dít waar is, dan is Jesus ‘n Hoof sonder ‘n liggaam.

 

Handhaaf egter ‘n balans. Moenie dink dat alle kerklidmate waarlik gered is nie.  Jou doop of naam op die lederol beteken nie dat jou naam in die Boek van die Lewe is nie.  Op die oordeelsdag gaan God in die kerk sif om die onkruid en koring van mekaar te skei.

 

Net soos wat die antichriste nie in die gemeenskap volhard het nie, het hulle verkeerd geglo oor Jesus (v.22). Vandag nog glo hulle verkeerd oor Jesus:

 

[1] Hulle glo nie Hy is volkome God en mens nie. Hulle glo nie dat Hy deur die Gees se werking uit ‘n maagd gebore is nie.

 

[2] Hulle glo nie dat Hy die Messias is nie.

 

[3] Hulle glo nie dat Hy die Verlosser is wat die straf vir ons sonde op Homself geneem het aan die kruis nie. Hulle glo nie dat Hy die opgestane Here is wat weer kom nie.

 

Enigiemand wat verkeerd glo oor Jesus is ongered, en het ook nie die Vader nie (v.23). Daarom kan ons nie sê dat almal dieselfde God dien en hemel toe gaan nie.  Jesus is die enigste Weg na die Vader (4:15, Johannes 14:6, Handelinge 4:12).  Dit beteken egter nie dat almal wat reg oor Jesus glo, gered is nie.  Die duiwel glo reg en is ongered (Jakobus 2:19).  As jy wil hê dat God jou moet red, moet jy jou sonde los, en besef dat Jesus die enigste hoop is dat God jou kan vergewe.  Vertrou op Hom en wees lief vir Hom.

 

Beskerming teen die antichris (v.24-27)

Wanneer die seisoen draai of jy na ‘n ander land toe gaan, is die kanse goed dat jy siek word. Hoe weet jy wanneer jy siek is?  Hoe weet jy presies wat fout is?  Daar is ‘n objektiewe en subjektiewe toets om uit te vind.  Subjektief voel jou gestel af.  Jy weet nie presies wat fout is nie, maar jy besef dat dinge nie reg is nie.  Objektief gaan jy dokter toe en sê hy na paar toetse vir jou wat fout is.

 

Net so gee God in die geestelike realm vir ons subjekiewe en objektiewe toetse om vals lering uit te ken. Subjektief is die Heilige Gees soos ‘n ingeboude leuen verklikker wat ons waarsku.  Die gelowige weet nie altyd wat fout is as iemand in ‘n boek of preek vals lering soos gif versprei nie, maar hy weet iets is nie reg nie.  Objektief meet hy die lering aan die Skrif om agter te kom wat presies fout is.  Jy kan nie net die Woord of die Gees hê nie.  Jy het beide nodig.  Dit is Johannes se punt in v.24-27.

 

Hoe kan gelowiges in die Vader en die Seun bly, en nie val vir vals lering nie? Hulle moet sorg dat die evangelie wat hulle van die begin af gehoor het, in hulle harte bly (v.24).  Vir dié wat dít doen, belowe God die ewige lewe (v.25), en Hy kan nie lieg nie (Titus 1:2).  Die antichriste bedrieg jou, omdat hulle wil keer dat jy die ewige lewe kry (v.26).  Bly in die Woord, sodat jy nie in hulle strik beland nie (v.26).  Die Gees sal jou in die waarheid lei en jou waarsku (v.27, Johannes 14:26).  Gelowiges benodig nie die gnostici se lering om God te ken nie (v.27, Hebreërs 8:11).  Deur die ware Woord gee die Gees vir hulle alles wat nodig is om reg te lewe (v.27, 2 Petrus 1:3, 2 Timoteus 3:16-17).  Die Gees is die waarheid (5:6), en kan nie soos die vals leraars oor Jesus jok nie (v.27).  Soos die Gees vir hulle geleer het, moet hulle in Christus en sy waarheid bly (v.27).

 

Pasop vir die antichris. Wees agterdogtig oor enige nuwe lering; oor mense wat wonderlike nuwe dinge sê wat nog niemand in die kerk se geskiedenis gesê het nie.  Laat die evangelie wat jy van die begin af gehoor het in jou bly (v.24).  Volgens Jeremia 6:16 is die ou paaie die goeie paaie waarin jy rus vind vir jou siel.

 

Pasop ook vir mense wat praat asof gewone ‘Christene’ nie die Skrif kan verstaan nie; asof net geleerdes en spesiale gesalfdes dit kan verstaan. Ons is nie Katolieke wat glo dat net die priester die Skrif kan interpreteer nie.  Elke Christen het die Heilige Gees en kan die Skrif vir homself interpreteer.  Dit beteken nie dat leraars onnodig is nie (Efesiërs 4:11), maar beteken wel dat ons nie slim praatjies buite die Bybel nodig het nie.

 

Neem jouself voor om die Bybel beter te ken en gevul te word met die Gees, om die sonde te los wat die Heilige Gees bedroef. So sal jy vals lering van ‘n myl af kan uitsnuf soos wat ‘n bloedhond dwelms uitsnuf.  Sonder die Gees is jy soos ‘n alarm met ‘n pap battery.  Sonder die Woord is jy soos sekuriteitswagte wat slaap en nie koeëls in hulle gewere het nie.

 

Eddie is ‘n matriek leerling. In sy wiskunde vraestel is 95 van sy 100 antwoorde amper reg.  Waar sy antwoord 10 moes wees, het hy 9 geskryf.  ‘n Antwoord wat x3 moes wees, het hy x2 gemaak.  Alta het dieselfde eksamen geskryf.  Haar antwoorde was geheel en al verkeerd.  Maar toe die onderwyser hulle vraestelle merk, het hy nie vir Eddie meer punte gegee as vir Alta nie.  Eddie se antwoorde was nader aan reg, maar was nogsteeds verkeerd.

 

Net so is daar eintlik nie ‘n verskil tussen godsdienste soos Moslem en Hindoes aan die een kant, en Jehova’s Getuies en Word of Faith kerke aan die anderkant nie.  Almal van hulle verwerp die Jesus van die Bybel en is antichriste.  Charles Spurgeon het gesê:  ‘Om te onderskei is nie die vermoeë om die verskil tussen reg en verkeerd te ken nie, maar om die verskil te ken tussen reg en amper reg.’  Baie mense wat in die hel is, het die pot heeltemal mis gesit.  Maar hoeveel mense is daar nie in die hel wat amper reg was nie?  Bêre God se Woord in jou hart en pasop vir die antichris.

Verwarring oor die gawes

Man and question marks

Elke jong pianis wil die teorie oorslaan om gouer by die praktyk uit te kom. Net so wou die Korintiërs die gawes toepas sonder dat hulle die teorie reg verstaan het (1 Korintiërs 12:1-11). Dit verheerlik nie die Here as ons hierdie onderwerp ignoreer omdat dit te moeilik is, of omdat Christene hieroor verskil nie. Ons moet probeer om dit te verstaan, sodat ons dit reg kan toepas.

 

Die Gees en die geeste (v.1-3)

Party roem dat tale, ekstase, en val in die gees ‘n bewys is dat die Heilige Gees werksaam is. Die Kundalini kultus in Hinduïsme ervaar dieselfde as baie in die charismatiese beweging.[1] Oosterse misterie kultusse in die eerste eeu het ook hierdie ervarings gehad.[2] Hoe kan jy die Heilige Gees se werk uitken? Dit is die les in v.1-3.

 

Paulus het die Korintiërs se vrae oor die gawes beantwoord (v.1, 7:1). Die Grieks vir gawes [pneumatikos] beteken eenvoudig ‘die geestelikes’ en kan na geestelike gawes óf persone verwys. Soos baie charismate het die tale-sprekers in Korinte geglo dat hulle meer geestelik is [pneumatikos]. Paulus wou hulle teorie regstel, sodat die praktyk ook kon regkom: “En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie.” (v.1).

 

Toe die Korintiërs nog heidene was het demone hulle verblind, sodat hulle agter stom gode aangehardloop het (v.2, 10:20, 2 Korintiërs 4:4, Habakkuk 2:18-19, Psalm 115:5). Dié wat Judaïste was kon onthou hoe demone hulle beïnvloed het sodat hulle in die sinagoge vir Jesus vervloek het (v.3).[3] Hulle het nie verstaan dat Hy vir óns sonde vervloek is nie (Galasiërs 3:13).

 

Demone kan ekstatiese ervarings na-aap. ‘n Egte ervaring van die Gees word nie aan ekstase gemeet nie, maar aan wat die persoon van Jesus sê (v.3). Die Heilige Gees sal nie vir Jesus vloek nie; Hy verheerlik Hom en getuig van Hom (Johannes 16:14, 15:26). Iemand wat in die Gees praat bely dat Jesus, nie die keiser nie, Jahwe of Here is. Dié belydenis beteken nie dat jy die woorde soos ‘n pappegaai kan opsê nie (Matteus 7:21-22, Lukas 6:46). Dit beteken eerder dat jy ‘n hartlike, persoonlike, en opregte belydenis maak dat Jesus die Here is (Romeine 10:9). Dit is dan nie die tale-sprekers wat geestelik is nie, maar almal wat Jesus as Here bely (v.2-3).

 

Dit is belangrik dat jy die Heilige Gees se werk kan uitken. Hoe doen jy dit? Die Gees is soos iemand wat agter jou staan en die kollig op Jesus skyn. Pasop as ‘n prediker baie van die Gees praat, en niks van Jesus nie. Dit is ‘n vals gees. Die Heilige Gees verhef Jesus in die liede, die preke, die nagmaal, gesprekke, getuienisse. Só onthou Spurgeon se vrou een van sy preke toe hy 20 was:

 

‘I remember, with strange vividness at this long distance of time, the Sunday evening when he preached from the text, ‘His Name shall endure forever.’ It was a subject in which he revelled, it was his chief delight to exalt his glorious Saviour and he seemed in that discourse to be pouring out his very soul and life in homage and adoration before his gracious King. But I really thought he would have died there, in face of all those people!

 

At the end of the sermon, he made a mighty effort to recover his voice; but utterance well-nigh failed, and only in broken accents could the pathetic peroration be heard, – ‘Let my name perish, but let Christ’s Name last for ever! Jesus! Jesus! Jesus! Crown Him Lord of all! you will not hear me say anything else. These are my last words in Exeter Hall for this time. Jesus! Jesus! Jesus! Crown Him Lord of all!’ and then he fell back almost fainting in the chair behind him.’[4]

 

Moenie val net omdat ‘n kerk Jesus se Naam noem nie: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 7:21). Vra eerder: eer hulle Jesus as die heerlike Seun van God, gelyk met die Vader, die opgestane Here, die gekruisigde Verlosser, die God-mens?

 

Die Gewer en die gawes (v.4-11)

Elke sleutel van ‘n klavier verskil, en tog maak dit een melodie. So is dit met die liggaam. Daar is een Gees, een Here Jesus, en een God die Vader (die Drie-Eenheid) wat die krag is agter die geestelike gawes, dienste, en werkinge (v.4-6). ‘Drie Persone maar een God’ is ons bloudruk vir baie lede maar een liggaam (Efesiërs 4:4-7).

 

Elkeen het ‘n gawe gekry om die liggaam op te bou en die onsigbare Gees te openbaar (v.7). In ons teks lê die klem op die Gewer en nie op die gawes nie. Die Gees word nege keer genoem, en die Vader en die Seun vyf keer.

 

Wat is die geestelike gawes? Verskillende gawes word in v.8-10, 28, Romeine 12:6-8, Efesiërs 4:11 gelys. Die Gees gee gawes volgens elke kerk se behoefte. Die lys is basies en nie noodwendig volledig nie.

 

Gebruik jou gawe. Moet jouself nie bejammer en sê jy het nie ‘n gawe nie (v.7, Romeine 12:3). Ontdek jou gawe so:

 

  • Wat geniet jy om te doen?
  • Watter van jou dade bou die kerk op?
  • Waarvan sê ander: ‘Jy doen dit goed – dit help ons’?

 

Gebruik jou gawe om die kerk op te bou. Moenie selfsugtig wees soos mense wat hulle gawe vir hulleself hou en in hulle kamer in tale bid nie. Gebruik jy regtig jou gawe of is jy maar net ‘n toeskouer? As jy nie jou gawe gebruik nie, sal dit roes. God sal van jou rekenskap eis en vra of jy jou gawe gebruik het.

 

Charles Spurgeon het by verskeie geleenthede na iemand in die gehoor gewys so iets gesê:[5] ‘Daar sit ‘n man wat ‘n skoenmaker is. Hy hou sy winkel oop op Sondae. Hy het laas Sondag sy winkel oop gehad en nege pennies gemaak, waarvan 4 pennies wins was. Hy is verbaas dat ek hom so akkuraat beskryf het. Hy sal sy winkel sluit en op Sondae kerk toe kom.’ Dit was presies soos wat Spurgeon gesê het. Die persoon het begin kerk toe kom en is gered. Oor sulke ondervindings skryf Spurgeon:

 

‘I could tell as many as a dozen similar cases in which I pointed at somebody in the hall without having the slightest knowledge of the person, or any idea that what I said was right, except that I believed I was moved by the Spirit to say it; and so striking has been my description, that the persons have gone away, and said to their friends, “Come, see a man who told me all things that ever I did, beyond a doubt, he must have been sent of God to my soul, or else he could not have described me so exactly.”’

 

Is dit profesie? Ek glo nie so. Ek dink eerder dat dit die gawe van kennis is.

 

[1] ‘n Woord van wysheid (v.8, 2:13). Hier gaan wysheid oor meer as net grys hare of lewenservaring, maar dit is ‘n bonatuurlike kennis (Jakobus 1:5, 3:13-17, Psalm 119:98-100). So iemand se wyse woorde help ‘n rigtinglose vergadering. Die persoon voorsien hindernisse en gevolge. Hy of sy gee wyse raad wat die res gemis het.

 

[2] ‘n Woord van kennis (v.8). Hierdie persoon kan gou ‘n register van die Skrif se lering gee oor enige onderwerp: gebed, ouerskap, verslawing, die skepping, vergifnis, ens. Dit is die tipe persoon wat goeie boeke skryf om die kerk te help (Romeine 15:14).

 

Hierdie gawe kan dalk verwys na iemand wat feite ken wat niemand vir hom of haar gesê het nie (Handelinge 5:3). Dit gebeur, sodat mense kan glo dat God waar is. Dit gebeur soms in preke, sodat jy dink die ds. ken jou omstandighede of gedagtes (14:24-25, Hebreërs 4:12-13).

 

Het jy die gawe van wysheid of kennis? Bou die kerk op daarmee. Maak jou mond oop in vergaderings. Gee raad, waarsku, skryf goeie materiaal. Moenie dink jy het hierdie gawe om mense seer te maak nie. Party mense dink hulle het ‘n sesde sintuig, of maak staat op hulle intuïsie. Hulle verdink ander mense en maak hulle seer. Ek ken ‘n vrou wat so is. Sy het voor ander mense vir my kollega gesê: ‘Jy lieg! Jy lieg!’ Sy was verkeerd. Die gawe van kennis beteken nie ons glo in nuwe openbaring nie. Ons mag nie by die Skrif byvoeg of wegvat nie (Deuteronomium 12:32).

 

Ons moenie van hierdie twee gawes vergeet nie. Ons het dikwels ‘n begeerte om die Gees se krag te sien, maar vergeet van sy kennis en wysheid.

 

George Müller het nie ‘n salaris ontvang nie, en het vertrou dat die Here vir Hom sal sorg. Ek ken ‘n Afrikaanse predikant wat so is. Ek dink dat hierdie mense die gawe van geloof het. Ek onthou twee kere wat God vir my hierdie gawe gegee het. Iemand het gevra ek moet ernstig saam bid vir reën in ‘n droë en baie warm Limpopo. Na my gebed het ek bo alle vertwyfeling geweet dat God my gebed gaan antwoord. Na ‘n lang droogte het dit dieselfde aand nog gereën.

 

‘n Ander keer was daar ‘n tyd van geestelike droogte in ons kerk. Ek het Matteus 7:7 gebid: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Na omtrent 20 minute van intense gebed het God se versekering skielik soos ‘n lig in my hart geskyn. Ek het met vaste sekerheid geweet dat God iets in die kerk gaan doen, en Hy het. Vir 3 maande het ons ‘n tyd van wonderlike voorspoed en seën geniet.

 

[3] Geloof (v.9). Geloof praat nie van die reddende geloof wat elke Christen het nie. Die gawe van geloof is ‘n absolute oortuiging dat God sy Woord in onmoontlike omstandighede sal vervul. Jakobus 5:15 praat van die gebed van geloof. Jesus het gesê: “Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.” (Matteus 21:21-22). God gebruik mense met hierdie gawe om twyfelaars te help.

 

Het jy die gawe van geloof? Gebruik dit om ander op te bou. Die gawe van geloof is nie om te glo jy gaan ‘n nuwe BMW kry nie; dis nie die vals geloof van Word of Faith predikers nie. Nee. Bid met geloof en vertroue oor die beloftes in God se Woord. Spoor twyfelaars aan. God se antwoorde op jou gebede sal almal se geloof versterk. Hoekom moet jy geloof hê? Want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Hebreërs 11:6).

 

Sam Storms vertel hoe hulle ouderlinge eenkeer vir ‘n siek baba met ernstige lewer probleme gebid het. Hy het sonder twyfel geweet het dat God die kind gaan genees. Die volgende dag het hy gehoor dat die seuntjie volkome genees is.[6] Storms glo dat dit die gawe van genesing was. Ek verskil en dink dit neig meer na die gawe van geloof.

 

[4] Gawes van genesinge (v.9). Die Grieks gebruik twee meervoude. Ek dink dit wys dalk dat God ‘n unieke gawe vir verskeie siektes gee. In die Skrif het God mense op verskillende maniere genees: ‘n woord, ‘n gebed, handoplegging, modder op die persoon se oë, ‘n skaduwee wat op mense val, sakdoeke wat mense aanraak, ‘n liggaam wat in water gewas word, en soms geen genesing nie (1 Timoteus 5:23, Filippense 2:27, 2 Timoteus 4:20).

 

[5] Kragtige werke (v.10). God gee dié gawe sodat ongelowiges hulle ore spits vir die evangelie, en sodat gelowiges God prys vir sy hulp in onmoontlike situasies. Kragtige werke verwys na demone wat uitgedryf word, mense wat met blindheid geslaan word, dooie wat opgewek word, water wat in wyn verander, brode en visse wat vermeerder word, ens.

 

‘n Wonderwerk is wanneer God bo en buite die wette van die natuur werk. Dit is nie so dat elke werk van God ‘n wonderwerk is nie, want dan is geen werk spesiaal of uniek nie. Wonderwerke word dikwels ook tekens genoem. Wonderwerke is ‘n teken wat Jesus se krag, heerlikheid, en Messiaskap wys (Johannes 2:11, 3:2, Matteus 11:3-5). Die apostels se wonderwerke het dieselfde gewys.

 

Verstaan die gawe van genesing en kragtige werke reg. Die gawe van genesing is nie as iemand met medisyne gesond word, oor ‘n tydperk van ‘n paar weke verbeter, minder pyn ervaar as voorheen, gesond word maar weer na ‘n tyd verswak nie. Die gawe van genesing is ook nie God se antwoord op die gebed van die ouderlinge in Jakobus 5 nie.

 

Baie mense dink hulle het die gawe van genesing. Hulle slaan tente op, vat mense se geld, genees mense se hoofpyne en rugpyne, genees nie organiese en sigbare kwale soos blindheid en kreupelheid nie. As hierdie mense regtig die siekes kan genees, hoekom gaan doen hulle dit nie in hospitale nie?

 

Party siektes word veroorsaak deur stres, angs, depressie, sonde, en demone (Lukas 13:16, 9:39, Matteus 15:22, Job 2:7, Spreuke 17:22, Psalm 38:4). Daarom gebeur dit soms dat mense genees word wanneer hulle die evangelie glo en gered word. Martyn Lloyd-Jones vertel só ‘n storie.

 

Drie dogters se ouers is op een slag dood. Die tragedie het hulle gebreek. Twee van die susters het Lloyd-Jones se kerk begin bywoon. Die derde sussie het tuis gebly. Vir baie jare was sy bedlêend en het sy nie beter geword nie. Die ander twee susters het vir Lloyd-Jones gevra om haar te besoek. Toe hy haar sien het dit gelyk of die duiwel deur haar oë kyk. Hy het haar ondersoek (hy was voorheen ‘n mediese dokter) en het gesê dat daar niks fout was nie. Hy het haar aangeraai om geleidelik te begin opstaan. Sy het sy raad gevolg. Sy het later kerk toe gekom. Voor lank het sy tot bekering gekom en is sy heeltemal genees.[7]

 

God genees nogsteeds bonatuurlik in antwoord op gebed (ek kan talle voorbeelde gee). Hy doen ook nogsteeds wonderwerke. Ek ken ‘n sendeling wat vir meer as ‘n jaar elke dag op dieselfde gasbottel gekook het. Die gas het eenvoudig nie opgeraak nie.

 

Maar doen God nog genesings en wonders deur mense wat die gawe het? Ek glo nie so nie. Hierdie gawes was spesifiek gee om te bevestig dat die apostels eg was, en dat hulle die ware evangelie verkondig het (sien 2 Korintiërs 12:12, Hebreërs 2:3-4). Baie mense sê dat so-en-so hierdie gawes het, en dat hulle dit op die sendingveld gebruik. Ek sal graag die bewyse wil hê.

 

Hoekom moet ons die gawe van genesing en kragtige werke reg verstaan? As jy dit nie reg verstaan nie, sal die duiwel jou uitvang. Demone kan hierdie dinge na-aap. Hulle kan ook wonders doen om mense te mislei (Matteus 7:22, 24:24, 2 Tessalonisense 2:9, Openbaring 13:13-14). Dink maar aan Simon die Towenaar wat baie mense mislei het (sien Handelinge 8). Dink ook aan towernaars wat nie maar net met oë verblindery besig is nie, maar wat met die hulp van bose geeste toertjies doen.

 

In 1315 het Jan Hus op die brandstapel gesê: ‘You may roast this goose [Hus is Tsjeggies vir ‘gans’], but a hundred years from now a swan will arise whose singing you will not be able to silence.’ ‘n Honderd jaar later het Martin Luther regverdigmaking deur die geloof alleen herontdek. Hy het geglo dat hy die swan was van wie Hus gepraat het.[8]

 

In die 1500’s het John Welch ‘n ryk man gewaarsku om op te hou om God se dag te ontheilig. Welch het gesê dat God hom sou uitwerp en sy rykdom wegneem indien hy nie wou ophou nie. Dit het presies so gebeur.[9]

 

Hierdie tipe dinge gebeur. Ek glo egter nie dat dit geïnspireerde profesie is nie. Dit is byna soos iemand wat vir ‘n dronkaard sê: ‘Jy gaan nog ‘n ongeluk maak en verlam word.’ As dit so gebeur sou ons nie sê dat dit geïnspireerde profesie is nie, maar die natuurlike gevolge van sy sondige optrede.

 

[6] Profesie (v.10). Profesie is om geïnspireerde woorde van te spreek, en nie net toekomsvoorspelling soos in Handelinge 11 nie. Omdat die Skrif voltooi is, is hierdie gawe nie meer nodig nie (Efesiërs 2:20, Hebreërs 1:1). Indien daar wel nog geïnspireerde profesieë is, is ons besig om by die Woord van God by te voeg (Openbaring 22:18-19).

 

Vandag is daar mense wat glo dat Nuwe Testament profesie anders is Ou Testament profesie, en dat dit detail foute bevat. Die Skrif onderskei egter nie tussen Ou- en Nuwe Testament profete nie.

 

Om teleurstelling te voorkoms, moet jy versigtig wees vir moderne profete. Die Skrif is God se finale profesie. Profesie met detail foute is gevaarlik. Op die manier het mense al hulle eiendom verkoop, werke gelos, getrek, en alles verloor. Kan Christene nie self met gebed, die Skrif, en die raad van volwasse gelowiges besluite neem nie? Is dit sonde as jy nie jou werk los, oppak en trek nie? Op wie se gesag moet jy hierdie dinge doen? Hoe weet jy of die profesie waar of vals is as jy dit nie aan die Skrif kan meet nie? Hoe weet jy dit is regtig Gód wat hierdie dinge sê?

 

Ek sê nie dat die Heilige Gees ons nie lei nie. Maar wees versigtig om te sê: ‘Die Here het vir my gesê,’ asof jy ‘n nuwe woord buite die Skrif gekry het. Mense wat verkeerde voorspellings maak is mislei of hulle is vals profete (ek sal meer oor profesie sê as ek hfst.14 preek).

 

In CUM kan jy ‘n boek van Benny Hinn koop langs ‘n boek van Spurgeon of John MacArthur. Dit is ‘n illustrasie van die moderne kerk: mense het nie die vermoë om te onderskei nie. Daarom is dit nodig vir die onderskeiding van geeste.

 

[7] Onderskeiding van geeste (v.10). Dit is die gawe om te onderskei tussen die ware en valse Jesus, die ware en valse evangelie, die ware Gees en vals geeste (Galasiërs 1:6, 2 Korintiërs 11:4). Iemand met hierdie gawe weeg wat die profete sê (14:29, 1 Tessalonisense 5:20-22). Hierdie gawe was nodig voordat die Nuwe Testament voltooi is, en daar is nogsteeds ‘n groot mate waarin ons dit vandag nodig het.

 

As jy hierdie gawe het moet jy die kerk daarmee help. Meet aan die Skrif of mense die ware Jesus verkondig (1 Johannes 4:1-3), en of hulle die leer van die apostels volg (1 Johannes 4:5-6). Ek is nie beïndruk met mense wat alewig nuwe interpretasies vind nie; mense wat die eeue-oue interpretasie weggooi nie. Die profeet sê: “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” (Jeremia 6:16).

 

Party mense onderskei beter as ander en moet die res help. Ek dink MacArthur is iemand wat die ‘issues’ duideliker raaksien as ander. Dit is baie nodig dat ons moet onderskei. Die duiwel doen homself immers voor as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:14).

 

In die tweede eeu het Montanus, Priscilla, Maximilla, en hulle volgelinge (die Montaniste) op ‘n wanordelike manier in wilde ekstase brabbel-tale gepraat. Die kerk het gesê hulle het ‘n vals gees en het hulle ge-ekskommunikeer.[10]

 

[8, 9] Allerhande tale, Uitleg van tale (v.10). Paulus lys hierdie gawes laaste omdat dit die minste belangrik was, en omdat die Korintiërs dit verhef het (v.28, 30). Die Grieks vir ‘allerhande’ is genos en praat van verskillende lande se tale (14:10-11, 21, Handelinge 2:5-11). Dit verwys nie na ‘n gebrabbel nie. Die NAV se ‘tale of klanke’ is misleidend en staan nie in die Grieks nie. Die gawe van tale bou net die kerk op as iemand dit vertaal en almal dit verstaan (hfst.14). Die vertaler self ken nie die taal nie, maar kry ‘n bonatuurlike gawe en vermoë om dit te vertaal.

 

Meet moderne tale-sprekers aan die Skrif:

 

  • Het party of almal in dié kerk hierdie gawe (v.10)?
  • Is daar ‘n uitleg (v.10, 14:27-28)?
  • Geskied dit ordelik (14:27, 40)?
  • Word die kerk opgebou, of gebruik hulle dit as ‘n private gebedstaal (v.7)?
  • Is dit ‘n gebrabbel of ander lande se tale (Handelinge 2:5-11)?

 

Ek glo dat die moderne gawe van tale onsin is. Ek sal meer hieroor sê as ek hfst.13 en 14 preek. As jy nie tale aan die Skrif meet nie, sal jy (soos hulle) emosie najaag eerder as om ander op te bou.

 

‘n Eks-charismatiese pastoor het vroeër vanjaar vir ons vertel dat hy vir 15 jaar die gawe van tale vir ander geleer het, en dit self ‘gefake’ het. Gawes is nie natuurlike talente nie, maar ‘n bonatuurlike bekragtiging van die Heilige Gees (v.11). Hy gee die gawes soos wat wil (v.11). Jy mag dit begeer en daarvoor vra (14:1), maar jy kan dit nie kunsmatig aanleer nie.

 

Erken dat die Gees soewerein is oor die gawes. Dank Hom vir jou en ander se gawes. Gebruik dit om die gemeente op te bou. As jy dink die gawe is uit jouself en jy die Gees nie erken nie, sal jy jaloers wees op ander se ‘beter’ gawes, of jy sal jouself verhef omdat jy ‘n ‘beter’ gawe het (soos wat die Korintiërs met die gawe van tale gedoen het).

 

Vroeër vanjaar het ek ‘n boek gelees oor die geestelike gawes. Verskillende outeurs het vier sienings oor die gawes bespreek. Elke skrywer het sterk punte gehad. Ek glo nie dat my siening (soos hierbo genoem, asook in die preke wat kom) al die antwoorde het nie. Daar is steeds dinge waaroor ek wonder. Maar sover ek dit verstaan, is hierdie siening die getrouste aan die Skrif.

[1] Sien Andrew Strorm se dokumentêr op YouTube.

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power, Part 1, p.29

[3] David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.571

[4] Iain Murray, The Forgotten Spurgeon, p.41

[5] Sam Storms in Wayne Grudem, ed., Are Miraculous Gifts for Today (Four Views)?, pp.83, 201-203, 83. Ek ondersteun nie Storms se siening oor die gawes nie.

[6] In Wayne Grudem, ed., Are Miraculous Gifts for Today (Four Views)?, pp.213-214.

[7] Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (vol.1), p.263

[8] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, pp.31-32

[9] John Howie, The Scots Worthies, p.123 (sien pp.130-131 vir ‘n soortgelyke storie).

[10] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.105, 115