Die nuwe hemel en aarde

New heavens and earth

Natasha woon in ‘n baie arm gedeelte van Rusland.  Sy was nog nooit buite haar land se grense nie, en kan ook nie ‘n woord Engels praat nie.  Op ‘n dag toe ontmoet sy vir Pete, ‘n Amerikaner wat vir vyf jaar in Rusland gewerk het.  Hy kon vlot Russies praat.  Hulle het vriende geraak en uiteindelik met mekaar getrou.

 

A.g.v. Natasha se huwelik met Pete, het sy maklik Amerikaanse burgerskap verkry.  Sy kon egter nie die taal praat nie, en moes aan die kultuur gewoond raak.  Maar na tien jaar in die land kon sy vlot Engels praat, en het sy die kultuur aangeleer.  Wat sy aanvanklik net in teorie gehad het, het sy nou in die praktyk geniet.

 

En so is dit ook met die nuwe hemel en aarde.  Daar is ‘n sekere sin waarin ons reeds in die nuwe skepping deel.  Maar in ‘n ander sin sal ons eers die volheid daarvan geniet wanneer Jesus kom.  Dit is wat Johannes in Op.21:1-8 vir ons wil leer.

 

Die nuwe skepping (v.1)

Om een of ander rede het mense die idee dat God se kinders vir ewig in lugkastele gaan woon, gaan rond sweef, op wolke gaan sit, en op goue harpe gaan speel.  Is dit enige wonder dat baie mense nie ‘n begeerte het om daar te wees nie?

 

Die waarheid is eerder dat Jesus die hemelruim met sy sterre en planete, en die aarde met sy bome, berge, riviere, blomme, watervalle, diere, ens. gaan nuut maak.  Dit is o.a. hoe ons v.1 moet verstaan.

 

Johannes het ‘n nuwe hemel en aarde gesien; die eerste hemel en aarde het voor die Here weggevlug (v.1, 20:11).  Hy het dit gebrand en uit die rou materiaal die nuwe hemel en aarde geskep (2 Pt.3:10, 12-13).  Dit is dus nie soos die eerste skepping uit niks gemaak nie (Rm.4:17, Heb.11:3).

 

Soos Hy ons liggame uit die graf uit sal opwek, sal Hy ook die huidige hemel en aarde ‘opwek of wederbaar’ (Mt.19:28).  Alhoewel die nuwe hemel en aarde eers by die wederkoms vervul sal word (v.1), het dit reeds in saadvorm by Jesus se kruisdood begin.  Ons ervaar alreeds iets hiervan wanneer wedergeboorte in ons harte plaasvind:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel” (2 Kor.5:17a).

 

Maar die evangelie stop nie by die redding van sondaars nie.  Omdat Adam se sonde die skepping beïnvloed het (Gn.3:14, 17-18, Rm.8:19-22), sal Jesus die hemel en aarde van Gn.1:1 nuut maak (v.1, Hd.3:21, Kol.1:20).  Die see van die eerste skepping wat mense se dood veroorsaak het (20:13), sal nie meer bestaan nie (v.1).  Maar dit beteken nie dat daar nie ‘n nuwe, skadelose see sal wees nie.

 

Die nuwe Jerusalem (v.2-3)

Elke jaar is daar ‘n Baptiste Paaskonferensie op Cornelia, ‘n klein dorpie in die Vrystaat.  Daar is goeie prediking en heerlike samesang.  Een van die liede wat gesing word, gaan oor die Nuwe Jerusalem.  Dit is ‘n pragtige lied, maar daar is een sin in die lied wat nie Bybels is nie:  ‘Jerusalem, ewig daarbo.’

 

Volgens Op.21:2 sal die Nuwe Jerusalem nie vir ewig daarbo wees nie, maar sal dit na die aarde toe neerdaal.  Die stad verwys natuurlik na die mure, geboue, paleise, poorte en strate (v.9-27, Jh.14:2-3, Heb.11:10, 16, 13:14), maar dit verwys eintlik meer na die inwoners.  Ons is tog die hemelse Jerusalem en die bruid van die Lam (v.2, 9, 19:7-8, Ef.5:31-32, Heb.12:22).

 

Volgens v.2 en 9-27, sal die Nuwe Jerusalem – die huidige hemel – van God af na die aarde toe neerdaal, en die hoofstad van die nuwe aarde wees.  Die stad se hemelse afkoms beteken ook dat ons siele eendag saam met Jesus na die aarde toe sal terugkeer (v.2, Kol.3:4, 1 Ts.3:13, 4:14).  As Hy klaar ons liggame uit die graf uit opgewek en verheerlik het, sal Hy ons siele daarmee verenig (1 Kor.15, 1 Ts.4:13-18).

 

Omdat ons in ‘n sekere sin die Nuwe Jerusalem is, impliseer v.2 ook dat die kerk ‘n hemelse oorsprong het, en dat sy van God af kom.  Ons uitverkiesing, verlossing, wedergeboorte, roeping, regverdiging, heiligmaking, verheerliking kom van God af; ons is burgers van die hemelse Jerusalem (Jh.3:3, 5, Rm.8:29-30, Gal.4:26, Fil.3:20).

 

Volgens Johannes het die Nuwe Jerusalem gelyk soos ‘n bruid wat mooi gemaak is vir haar man (v.2, Jes.61:10).  Jesus het m.a.w. die stad voorberei (Jh.14:2-3).  Deur sy kruisdood, wedergeboorte en die Woord, het Hy ons ook vir Homself voorberei (19:7-8, Ef.5:25-27).

 

God het met ‘n harde stem uitgeroep dat Hy sy tabernakel onder ons opgeslaan het (v.3, Lv.26:11-12).  Dit het begin toe Jesus as mens in Betlehem gebore is (Jh.1:14, Gk.).  Toe Hy na die hemel toe opgevaar het, het Hy persoonlik deur die Heilige Gees in ons harte kom woon (v.3, Mt.28:20, Jh.14:21, 23).

 

Wanneer ‘n gelowige sterf en hemel toe gaan, en wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, sal sy teenwoordigheid tasbaar wees; Hy sal sy tabernakel oor die persoon sprei en hom veilig hou (v.3, 7:15).  Hy sal die Here van aangesig tot aangesig sien (v.3, 22:4, Mt.5:8, 1 Jh.3:2).

 

Die gemeenskap en die verbond wat in Gn.3 verbreek is, sal heeltemal herstel word (v.3).  Dit het reeds by Jesus se kruisdood begin (Jer.31:33, 2 Kor.6:18, Heb.8:10), maar sal in die hemel en op die nuwe aarde finaal vervul wees (v.3).  Ons – die Jode en heidene wat in Jesus glo – sal sy volk wees, en Hy sal ons God wees (v.3, 5:9, Tit.2:14, 1 Pt.2:9)

 

Die nuwe lewe (v.4-8)

Eric Clapton sing ‘n bekende liedjie waarin hy sê dat daar nie trane in die hemel is nie.  Ek wil nie graag my teologie by hom leer nie, maar ek moet sê dat hy op hierdie punt reg is.  In die hemel en op die nuwe aarde, sal God die trane van sy kinders se oë afvee (v.4, 7:17, Jes.25:8, kontr. Op.5:4).  Hy sal ook die dinge wat hierdie trane veroorsaak het, wegvat:  dood, droefheid, pyn, ens. (v.4).

 

Deur sy kruisdood en opstanding het Jesus die dood oorwin, sodat die dood vir God se kinders skadeloos is (Jh.11:25-26, Fil.1:21, 23).  En tog sal die vervloeking van Gn.2:17, 3:19 eers finaal verdwyn wanneer Jesus ons liggame uit die dood uit opwek (v.4, 20:14, Jes.25:8, 1 Kor.15:26, 55).

 

Alhoewel ons nie op begrafnisse treur soos ongelowiges wat geen hoop het nie (1 Ts.4:13), treur ons nogsteeds.  Maar wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, sal ons glad nie treur nie (v.4).  Ons sal ook geen emosionele of fisiese pyn ervaar nie (v.4, kontr. Gn.3:16-19).

 

Jesus het by sy eerste koms en deur wedergeboorte gewys dat Hy die ou dinge kan omkeer om nuut te word (Jh.2-3, 6, 9, 11, 20; 2 Kor.5:17).  By die wederkoms sal Hy dit finaal doen wanneer Hy vir ons onsterflike liggame gee en alles nuut maak (v.1, 4-5, 1 Kor.15).  As dit vir jou onmoontlik klink, kan jy weet dat dit so seker en betroubaar is soos die Bybel self (v.5).

 

Wanneer God dinge op hierdie manier nuut maak, is sy verlossingswerk voltooi (v.6).  Hy is die Alfa en die Omega[1], die Begin en die Einde (v.6, 1:8, 22:13).  Die skepping het in Gn.1 by Hom begin, en in Op.21 het Hy dit nuut gemaak; ons verlossing het voor die skepping in sy gedagtes begin, en sal op die nuwe aarde in Hom vervul word (Rm.8:29-30, Ef.1:3-14, Fil.1:6).

 

Om die lewende water van hierdie verlossing te geniet, hoef jy nie geld vir die kerk te gee of godsdienstige rituele te beoefen nie.  Dit is heetemal gratis en verniet.  Ontvang dit met die leë hande van geloof (v.6, 22:17, Jes.55:1, Jh.4:14, 6:35, 7:37-39).  As jy in die hemel en daarna op die nuwe aarde is, sal jy vir ewig in perfekte gemeenskap met Jesus lewe, en só uit die fontein van die lewe drink (v.6).

 

Hierdie geskenk is vir dié wat tot die einde toe volhard, en só die oorwinning behaal (v.6-7).  Húlle sal nou en vir ewig erfgename en kinders van God wees (v.7, 3, Rm.8:15-17, 2 Kor.6:18).

 

Deur hulle geloof in die Oorwinnaar (Jh.19:30, 2 Tm.1:10, Heb.2:14-15), sal hulle die volgende dinge oorwin:

 

  • Die wêreld (1 Jh.5:4-5).
  • Vervolging (2:10-11, Rm.8:37, 35).
  • Vals lering (2:17, 15, 1 Jh.4:4).
  • Die duiwel (12:11, 15:2).
  • Afvalligheid (2:7, 4).
  • Sonde (v.7-8, 3:4-5).
  • Geestelike louheid (3:21, 15-16).
  • Die dood (1 Kor.15:57, 54-55).
  • Die hel (v.7-8).

 

Daar sal mense wees wat nié oorwin het nie, maar deur die sonde oorwin is (v.8, Gal.5:19-21, 1 Kor.6:9-10).  Hulle lewens het o.a. só gelyk:

 

[1] Vreesagtiges of bangbroeke; mense wat te skaam was om vir Jesus te volg; ‘people pleasers’ wat sonde gedoen het, omdat hulle bang was mense hou nie van hulle nie.

 

[2] Trouelose of ongelowige mense.  Hulle het nie in Jesus geglo nie, en was ook nie lojaal aan die Here, sy Woord en sy liggaam nie.

 

[3] Gruwelike mense wat gruwelike dinge gedoen het.  Die dinge wat hulle gedoen het is so gruwelik, dat jy dit nie in ordentlike geselskap kan noem nie.

 

[4] Moordenaars.  Hulle het ander se lewens geneem, ongebore babas vermoor, en gedurig daaraan gedink om hulle eie lewens te neem.  As hulle dit nie gedoen het nie, het bitterheid en onvergewensgesindheid hulle gedagtes gevul.

 

[5] Hoereerders.  Die Griekse woord [pornos] praat van mense wat seksueel losbandig was: seks voor die huwelik, egbreuk, homoseksualiteit, bestialiteit, pornografie, kindermolestering, prostitusie, wellus, ens. (Mt.5:27-30, 1 Kor.6:9-10, Heb.13:4).

 

[6] Towenaars van enige soort:  dié wat hulle sterretekens in die Huisgenoot gevolg het, en op Jakaranda FM ingebel het om met die dooies te praat, asook dié wat in Satanisme betrokke was (Dt.18:9-14, Hd.19:19, Gal.5:20).

 

[7] Afgodsdienaars.  Sommige het voor beelde van hout, klip en metaal gebuig, terwyl ander ‘n obsessie gehad het hulle liggame, geld, plesier, kos, drank, ens. (Kol.3:5).

 

[8] Leuenaars.  Hierdie is mense wat die waarheid verdraai het, hulle beloftes gebreek het, oordryf het, oneerlik, onbetroubaar en skelm was.  Hulle het ander bedrieg en dubbele lewens gelei.

 

Almal wat soos die bg. mense in hulle sonde wil lewe, sal vir ewig in die poel van swawel en vuur wees – dit is die tweede dood (v.8, 14:10-11, 20:10, 14-15).

 

Die eerste agt verse van Op.21 is gegee om ons aan te spoor en te waarsku.  ‘Bly weg van die hel af, en sorg dat jy eendag op die nuwe aarde sal lewe,’ is wat dit sê.  Natuurlik moet jy nie net eendag in die nuwe skepping deel nie, maar in hierdie lewe al.

 

Het jy al iets hiervan ervaar?  Ek vra nie of jy die sondaarsgebed opgesê het, op ‘n uitnodiging gereageer het, of jou hart vir die Here gegee het nie.  My vraag is of jy ‘n nuwe skepping is?  Is jy ‘n nuwe mens?  Het die Here jou lewe van binne af getransformeer?  Of is jy nog net dieselfde as in die verlede, sodat die dinge wat in v.8 gelys word deel van jou lewe is?

 

Hoekom kom jy nie met ‘n berouvolle hart van geloof na die Here toe nie?  Bely jou sonde, vra vir die Here om jou te vergewe, en drink deur die Woord en gebed uit die fontein van lewende water (v.6).

 

As jy reeds tot bekering gekom het, het ek twee dinge om vir jou te sê.  Eerstens wil ek sê dat jy soos ‘n burger van die hemel moet lewe.  Moenie só lewe dat ongelowiges niks met die Here te doen wil hê nie.  Dit geld vir jou huwelik, ouerskap, taalgebruik, hoe jy jou werk en skoolwerk doen, jou verhouding met dié wat oor jou aangestel is, jou gesindheid, jou maniere op die pad, en meer.

 

Tweedens is dit belangrik om nie te dink dat jy alreeds op die nuwe aarde is, sodat jy verwag dat jou geliefdes altyd gesond moet wees, en nie sal doodgaan nie.  Moenie vir die charismate luister wat dink dat hulle deur hulle woorde gesondheid, lewe en rykdom kan ‘spreek’ nie.  Geen mens se woorde kan die nuwe hemel en aarde skep nie; Jesus alleen kan.

 

Wag daarom vir Hom soos wat ‘n hond vir sy meester wag.  Terwyl jy wag moet jy nie passief wees soos ‘n hond wat in sy hok lê en slaap nie.  Wees aktief en gereed soos ‘n hond wat langs die heining staan en blaf.  Dien die Here, volhard, leef in gemeenskap met Hom, en deel die evangelie met ander.  Op dié manier kan jy solank ‘n voorsmakie van die nuwe hemel en aarde geniet.

 

[1] Die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet.

Advertisements

Die waarheid oor lewe na die dood

Stairway to heaven

Mense het verskillende idees oor wat met jou gebeur wanneer jy doodgaan. Omdat ek in Jesus glo en die Bybel as sy Woord aanvaar, gaan ek my nie steur aan wat Hindoes en Buddhiste oor reïnkarnasie, die Brahman en Nirvana sê nie.  Ons is bestem om een maal te sterf (Heb.9:27); ons bestaan nie in ‘n eindelose siklus van lewe en dood nie.

 

Ek gaan myself ook nie ophou met ateïste wat sê dat daar niks na die dood is nie. Diep in elke mens se hart het hy ‘n sin van die ewigheid:  “[God] has put eternity into man’s heart” (Pd.3:11, ESV).

 

Ek stel ook nie belang in ‘n Paradys met beeldskone maagde waarna miljoene Moslems uitsien nie. Volgens Mt.22:30 gaan ons nie in die hemel trou nie.  Ek het ook nie tyd vir die Katolieke se vagevuur, waarin die vlamme mense se sonde wegbrand, sodat hulle later hemel toe kan gaan nie.  Die plek waar jy is wanneer jy doodgaan is waar jy bly (Lk.16:26).

 

My kwessie is met dié wat sê dat hulle in Jesus en die Bybel glo, maar sy lering oor lewe na die dood verwerp. My kwessie is met dié wat in sieleslaap glo en dit verkondig.  Dit is immers húlle preke, seminare, boeke, tydskrif artikels en blog inskrywings wat God se kinders verwar.

 

In hierdie preek wil ek wys wat die Bybel te sê het oor lewe na die dood. Deur sy opstanding het ons reeds die ewige lewe in ons harte (Jh.6:47, 17:3), en sal ons dit eendag in ons liggame ontvang (1 Kor.15).

 

As jy in Jesus glo sal jy in alle ewigheid nie sterf nie, maar selfs na die dood saam met Hom lewe (Jh.11:25-26). Dit geld natuurlik vir ons siele voordat dit vir ons liggame geld; daar is talle Bybeltekste wat dit bewys.

 

Lewe na die dood in die Ou Testament

Ek het eenkeer ‘n preek gehoor waarin die man gesê het dat Abraham, Noag en ander Ou Testament gelowiges in limbo of die gevangenis van die doderyk was, en dat hulle ná Jesus se kruisdood bevry is. Maar nêrens in die Ou- of Nuwe Testament is daar ‘n teks wat dit sê nie.  Daar is meer genoeg bewyse dat Ou Testament gelowiges aan die einde van hulle aardse lewe hemel toe is.

 

Alhoewel Henog nie gesterf het nie, het God hom aan die einde van sy reis hemel toe gevat (Gn.5:24, Heb.11:5). Elia het ook nie gesterf nie en is met ‘n strydwa van vuur hemel toe (2 Kon.2:11).  In Lk.9:30-31 het hy saam met Moses (wat gesterf het) aan Jesus verskyn op die berg van verheerliking.  Volgens Lukas het hulle in heerlikheid verskyn:  hulle het uit die hemel uit gekom.

 

Toe Jakob sy asem uitgeblaas het, “is hy by sy volksgenote versamel” (Gn.49:33). Dit het gebeur ‘n paar maande voordat hy begrawe is (Gn.50).  Duidelik het sy siel nie in die graf geslaap nie, en beteken die vers dat hy hemel toe is.

 

Jesus het dit ook geglo. Toe die Sadduseërs Hom oor die opstanding probeer vastrek het, het Hy gesê:  “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie… En wat die opstanding van die dode betref—het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie:  Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob?  God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.” (Mt.22:29, 31-32).

 

Die feit dat die Here nogsteeds hulle God was, beteken dat hulle by Hom in die hemel gelewe het. Hoeveel te meer sou Hy dan nie hulle liggame in die toekoms kon opwek nie?  Die Hebreërskrywer bevestig dat hulle pelgrims op die aarde was, en dat hulle oppad was na die hemelse stad toe (Heb.11:10, 13-16).

 

Vir die volle beloning van nuwe liggame en ‘n nuwe aarde moes hulle vir die wederkoms gewag het (Heb.11:39-40). Tot dan sou hulle saam met talle ander gelowiges van die hemelse pawiljoen af moes toekyk hoe dié wat nog op die aarde was hulle wedloop voltooi het (Heb.12:1).  Dié wat dit tot aan die einde volhard se geeste sal volmaak wees in die hemel (Heb.12:22-23).

 

Die Psalmdigters het ook geglo dat hulle na die dood in die hemel sou wees. Dawid het in Ps.23:4-6 gesê dat gelowiges deur die vallei van die dood sal gaan, en dat hulle daarna vir ewig in die Here se huis sal woon.

 

Ps.49 stel ‘n duidelike kontras tussen die dood van gelowiges en ongelowiges. Ongelowiges se siele daal na die doderyk toe neer (Ps.49:15, 20), terwyl God die psalmdigter se “siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal [hom] opneem.” (Ps.49:16).  Daar het jy dit:  ongelowiges daal neer, terwyl die Here gelowiges opneem.

 

Asaf het dit ook geglo. Toe hy ‘n groot krisis beleef het, het hy gesê:  “U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem.  Wie het ek buiten U in die hemel?  Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (Ps.73:24-25).  Selfs as sy liggaam beswyk het, het hy ‘n erfenis in die hemel gehad (Ps.73:26).

 

In Pd.12:7 lees ons dat “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.” Iemand het op ‘n video het gesê dat die gees in Pd.12:7 na die mens se asem verwys.  ‘Wanneer jy sterf blaas jy jou asem uit en slaap jou siel in die graf; jy gaan nie na die Here toe nie,’ het hy gesê.   ‘Dit is wat Pd.12:7 beteken.’

 

Maar as hy die hele gedeelte gelees het, sou hy in Pd.12:5 gesien het dat die persoon na sy ewige huis toe gaan.  Moet ons regtig glo dat die graf sy ewige huis is?  Of is dit die hemel vir dié wat die Here ken en Hom vrees (Pd.12:1, 13)?

 

Lewe na die dood in die Nuwe Testament

Satan en mense se sonde verblind hulle, sodat hulle nie die Bybel verstaan nie (2 Kor.3:14-15, 4:4). Die Jehova’s Getuies gebruik bv. Jh.1:1 (‘…en die Woord was God’) om te wys dat Jesus nie God is nie.

 

Net so is daar mense wat die glashelder Nuwe Testament tekste oor lewe na die dood gebruik om te sê dat daar geen lewe na die dood is nie. As jy egter die verse in hulle letterlike en normale konteks lees, sal jy sien dat hierdie mense die kat aan die stert beet het.

 

Ek het in ‘n vorige preek (‘Jesus se dood en joune’) gewys dat Lk.23:43 presies beteken wat dit sê, en dat die misdadiger aan die kruis dadelik hemel toe is toe hy gesterf het:  “En Jesus antwoord hom:  Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”

 

Soek gerus die preek op vir ‘n breedvoerige verduideliking van die vers, asook vir ‘n weerlegging van die Sewendedag Adventiste se verkeerde interpretasie daarvan.

 

In Jesus se vertelling van die ryk man en Lasarus, het Lasarus by sy dood na ‘n plek van vertroosting toe gegaan waar Abraham is (Lk.16:22, 25, vgl. 13:28, 22:37-38). Toe die ryk man gesterf het en begrawe is, het hy na ‘n plek van pyniging toe gegaan (Lk.16:22-25).

 

Sommige mense sê dat hierdie ‘n gelykenis is, en dat ons nie ons teologie oor lewe na die dood hieruit moet neem nie. Maar let asseblief op dat Jesus sy lering teen die geldgierige Fariseërs gemik het (Lk.16:14, 1-13, 19).  As dit net ‘n storie was en daar geen pyniging na die dood is nie, sou Jesus se lering nie tande gehad het nie.  Die Fariseërs sou Hom uitgelag het, omdat daar nie lewe na die dood is nie, en omdat ons siele rustig in die graf sal slaap.

 

Jesus se gebruik van eiename soos Abraham en Lasarus dui aan dat sy lering nie net ‘n storie is nie, maar geskiedenis (Hy het nooit eiename in ‘n gelykenis gebruik nie). Maar al kon iemand ‘n saak uitmaak om te wys dat dit ‘n gelykenis is, moet ons nogsteeds vra of Jesus oor lewe na die dood sou gepraat het as dit nie so was nie?  Sou Hy sy hoorders mislei en verwar het as mense se siele eintlik in die graf slaap?  Sou Hy vals inligting in sy storie ingewerk het, soos om te sê dat daar mense in ‘n plek anderkant die graf is, terwyl hulle geliefdes nog op die aarde is (Lk.16:27-28)?  Wat is enigsins die punt van Lk.16:19-31 as daar nie ‘n hemel of hel is ná die dood nie?

 

Soos Jesus het Paulus ook geglo dat gelowiges ná die dood hemel toe gaan. Volgens hom was dié wat nog op die aarde gelewe het in die liggaam, en nie by die Here nie (2 Kor.5:6).  As iemand egter doodgaan en sy liggaam verlaat, is hy by die Here (2 Kor.5:8).  Daar is nie iets tussen-in nie.  As jy nie by Jesus in die hemel is nie, is jy in jou liggaam op die aarde en andersom.  Dit leer Paulus ook in Fil.1:22-23 vir ons:

 

“Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. Want ek word van weerskante gedring:  ek het ‘n verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste”.

 

Vir Paulus was dit beter om te sterf en na Jesus toe te gaan, as om in sy liggaam op die aarde te lewe. As sieleslaap waar is, sou Paulus verseker nie gesê het dat die dood beter is as die lewe nie, “want ‘n lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu.” (Pd.9:4).  Die dood is ‘n wins, omdat dit hom na Christus toe neem (Fil.1:21).  As dit hom in die graf gelos het, sou dit ‘n verlies gewees het.

 

In Op.6:9-11, 20:4 lees ons van die onthoofde martelare se siele wat in die hemel is.  Heb.12:23 praat van “die geeste van die volmaakte regverdiges” wat saam met Jesus en sy engele in die hemel is.  In Op.7:9-10 praat Johannes van gelowiges uit alle nasies wat in die hemel is.  Dit gebeur voor die wederkoms, die finale oordeel, die opstanding van die dooies, en die nuwe hemel en aarde (vgl. Op.20-22).

 

Ek het vroeër uit Lk.16:22-24 gewys dat ongelowiges dadelik na ‘n plek van pyniging toe gaan wanneer hulle doodgaan. Daar is ander verse in die Nuwe Testament wat dit bevestig.

 

In Jh.17:12 sê Jesus dat Judas die seun van die verderf is, en volgens Hd.1:18, 25 het hy gesterf en ná sy eie plek toe gegaan. As ons die twee verse saam lees is dit nie moeilik om te raai dat hierdie plek die hel is nie.  Dit is tog wat Jesus in Mt.26:24 bedoel het:  “…wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word!  Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.”

 

2 Pt.2:4, Jud.6 praat van gevalle engele wat in die duisternis van die hel vasgebind is met kettings. Soos hierdie engele is die goddelose ook alreeds in die hel.  2 Pt.2:9 in die ESV sê:  “the Lord knows how…to keep the unrighteous under punishment until the day of judgment”.  Jud.7 praat van die bewoners van Sodom, Gomorra en die omliggende stede wat huidiglik “die straf van die ewige vuur ondergaan.”

 

As ‘n misdadiger gevang word moet hy in die tronk sit, totdat sy saak voor die hof kom en hy gevonnis word. So is dit ook met die ongelowiges:  hulle gaan dadelik hel toe wanneer hulle sterf; hulle moet daar wag vir die oordeelsdag om voor God se hof te verskyn en gevonnis te word.

 

Elke ongelowige sal vir ewig gevonnis word (Mt.25:41, 46), maar Judas se straf sal bv. erger wees as keiser Augustus s’n, omdat hy van beter geweet het. Hy het meer lig gehad as die keiser, maar het dit verwerp.  Dit is presies wat verse soos Mt.11:20-24, Lk.12:47-48, 20:47, Jk.3:1, Op.20:12-13 vir ons leer.

 

Lewe na die dood en sieleslaap

‘n Vrou het my eenkeer kom sien oor ‘n artikel wat sy op die internet ontdek het. Die outeur het gesê dat gelowiges nie hemel toe gaan wanneer hulle sterf nie, maar dat hulle siele in die graf slaap.  Hy het ‘n paar tekste aangehaal om dit te ‘bewys’.  Die vrou was verward.  Ons het elke vers in sy konteks gelees en tot die volgende slotsom gekom:

 

[1] Ps.115:17 gaan nie oor sieleslaap nie: “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie”.  Die konteks gaan oor mense wat afgode aanbid, en so leweloos soos hulle gode word (Ps.115:4-8).  Húlle is dié wat in die doderyk neerdaal en nie die Here loof nie.

 

Wat God se kinders betref sê die Psalmdigter in die volgende vers:  “maar óns sal die HERE prys, van nou af tot in ewigheid.  Halleluja!” (Ps.115:18).  Wanneer ongelowiges doodgaan prys hulle nie die Here nie; gelowiges doen dit wel.

 

[2] Ps.146:4 gaan nie oor sieleslaap nie: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”  Die Psalmdigter se punt is dat ons nie op mense moet vertrou nie, omdat hulle toekomsplanne daarmee heen is wanneer hulle doodgaan (Ps.146:3-4).  Hy sê nie dat daar nie lewe na die dood is nie.

 

[3] Pd.9:5, 10 gaan nie oor sieleslaap nie: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet… Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”

 

Weer moet ons na die konteks kyk. Volgens Pd.9:6, 9 het die mense wat in die doderyk is nie meer deel aan die werk, kennis, wysheid of plesier wat onder die son plaasvind nie.  Salomo se punt is dat ons hard moet werk en beplan terwyl ons nog op die aarde is.

 

Sy punt is dieselfde as Jesus s’n in Jh.9:4: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.”  Niemand dink op grond van hierdie teks dat Jesus na sy dood nie meer kon werk nie.  Hoekom dink ons dit dan wanneer ons Pd.9 lees?

 

Dié wat gesterf het verloor nie hulle identiteit of persoonlikheid nie. Jy bly Joe van Jaarsveld as jy in die hemel is (Lk.16:23).  Jou siel raak ook nie onaktief nie.  Jy sal die Here saam met ‘n groot menigte van hemelwesens en gelowiges prys (Op.7:9-12).  Jy sal die Here se teenwoordigheid, liefde, troos, verkwikking en versorging geniet (Op.7:15-17).  Jy sal nie hartseer wees, pyn hê of sonde doen nie, maar volmaak wees (Op.7:17, Heb.12:23).

 

[4] Hd.7:60 en ander verse wat van gelowiges se dood as ‘slaap’ praat, beteken nie dat ons siele in die graf slaap nie: “En [Stefanus] het op sy knieë neergeval en met ‘n groot stem uitgeroep:  Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!  En met dié woorde het hy ontslaap.”

 

Volgens Hd.7:55-56 het Stefanus gesien hoe die hemel oopgaan; hy het God se heerlikheid gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. Terwyl sy vyande hom gestenig het, het hy uitgeroep:  “Here Jesus, ontvang my gees!” (Hd.7:59).  Stefanus het geglo dat hy oppad was na Jesus toe vir Wie hy nou-net gesien het.  Vir Stefanus was die dood so skadeloos soos slaap.

 

[5] 1 Ts.4:15 gaan nie oor sieleslaap nie. Paulus sê “dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.”

 

Dit is belangrik om te onderskei tussen wat met ‘n gelowige se liggaam gebeur wanneer hy doodgaan, en wat met sy siel gebeur.  En dit is Paulus se punt.  Dié wat nog by die wederkoms lewe se liggame sal nie voor hulle afgestorwe broers en susters s’n verheerlik word nie (1 Ts.4:16-17).

 

Dié wie gesterf het se siele is egter by die Here.  Wanneer Jesus kom sal hulle saam met Hom na die aarde toe terugkeer (1 Ts.3:13, 4:14, Kol.3:4).  Hy sal hulle liggame opwek en verheerlik, en hulle siele daarmee verenig (1 Ts.4:16, 1 Kor.15:35-55).

 

“Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde,” sê die apostel in 1 Ts.4:18. As die vorige verse oor sieleslaap gaan, kan ons nie vir Karen op haar sterfbed sê:  ‘Jy gaan vir Jesus in sy heerlikheid sien’ nie (Jh.17:24).  Ons sal eerder moet sê:  ‘Lekker slaap.’  En hoe bemoedig dít haar?

 

Sal dit haar nie meer help om die waarheid te hoor, dat elke gelowige by sy of haar dood hemel toe gaan nie? En omdat Jesus die dood oorwin het, hoef sy dit nie te vrees nie (1 Kor.15:55, Heb.2:14-15, Op.1:18).  Dit geld vir almal wat in Jesus glo.

 

As jy nog nie in Hom glo nie wil ek by jou aandring om dit vandag te doen. Jy sal nie spyt wees nie, maar sal wens dat jy dit al vroeër gedoen het.  En as jy die dag op jou sterfbed lê, sal jy saam met die Paulus kan sê:  “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (Fil.1:21).

Die breekpunt van God se toorn

Breaking point

Soms dink ons dat God se geduld nie grense het nie, maar dit het. In sommige gevalle gebeur dit dat mense Hom te ver druk en sy toorn breekpunt bereik.  Ons sien dit bv. toe Nadab en Abihu in die tabernakel gespeel het, en God vuur uit die hemel gestuur het om hulle dood te brand.  Ons sien dit toe Ussa aan die ark gevat het en onmiddellik gesterf het.  Ons sien dit toe Ananias en Saffira gelieg het, en die Here hulle doodgeslaan het.

God is ‘n baie liefdevolle en geduldige Vader, maar Hy is nie jou speelmaat nie. Die plae wat Hy in die Ou Testament oor Egipte gebring het, het Hy in Op.16 oor Israel en Jerusalem gebring.  In Op.8 het Hy hulle gedeeltelik gestraf, maar in hierdie hoofstuk sien ons hoe Hy hulle tot die uiterste toe geoordeel het.

Jerusalem het as’t ware die nuwe Egipte geword (11:8). God het toe vir die sewe engele gesê om die bakke van sy toorn oor haar uit te giet, soos wat Hy dit in die Ou Testament met die heidene gedoen het (v.1, Ps.79:3, 6, 10, 12, Jer.10:25).  Hy kon dit nie langer terughou nie:  die bakke het vol geword met die gebede van die gelowiges wat uitgeroep het dat Hy wraak sou neem oor hulle moordenaars (5:8, 6:9-11, 8:3-4).

In Op.16:1 was Hy gereed om sy toorn soos die bloed van die Ou Testamentiese offers uit te giet (vgl. 8:5, Lv.4:7). Die bakke se inhoud – die plae van God se toorn – sou Israel en haar sonde uit die land [Gk. ] uit verwyder.  Kom ons kyk met die mikroskoop van gebed en studie na die eerste vyf bakke.

Swere (v.2)

Iemand het my hond met ‘n gaspistool in die been geskiet. Dit het ‘n 20-sent grootte gat gelos.  Ek moes hom veearts toe vat sodat hulle dit kon toewerk.  Hoe moet dit wees om vyftig of ‘n honderd sulke oop wonde op jou liggaam te hê?

Die swere in v.2 herinner my aan Job s’n: dit was so pynlik dat hy dit met ‘n potskerf gekrap het (Job 2:7-8).  Dit het hard geword en weer oopgebreek.  Sy vel het swart geword en afgeval; daar was wurms in die swere.  Die inflammasie het sy bene soos vuur laat brand (Job 7:5, 30:30).  Uit 2 Kon.20:7, 1 leer ons dat hierdie swere dodelik was.  Hou dit asb. in gedagte wanneer jy v.2 lees.

Die eerste engel het sy bak op die land [Gk. ] uitgegiet (v.2).  Skadelike en pynlike swere het gekom oor die Jode wat saam met die wêreld agter die duiwel aangeloop het, oor dié wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het (v.2).[1]

Die Here het reeds in Dt.28:27, 35, 60-61 vir sy volk gesê dat Hy hulle met die swere van Egipte sou tref as hulle sy verbond gebreek het (vgl. Eks.9:8-12). In Op.16:2 het Hy sy belofte vervul:  dié wat die merk van die dier gehad het, het nou die merk van ongeneeslike swere gekry.

Bloed (v.3-7)

Die tweede en derde engele het hulle bakke op die see, riviere en waterfonteine uitgegiet, sodat dit in bloed verander het (v.3-4). Die see het soos die bloed van ‘n lyk geword, en soos met die eerste plaag in Egipte het die visse en waterdiere gevrek (v.3, Eks.7:19-21, kontr. 8:8-9).  Johannes wou weer gewys het dat Israel soos Egipte geword het (11:8), en dat God die lewe (water) van haar af weggevat het.

Josefus was ‘n Joodse geskiedkundige wat in die eerste eeu geleef het. Hy was nie ‘n gelowige nie, en tog stem sy rekord van die geskiedenis ooreen met dié van Openbaring.  Sonder dat Josefus dit geweet het, het hy die vervulling van v.3-4 in detail beskryf.

Hy vertel bv. hoe ‘n paar duisend Jode vir die Romeine gevlug het en in die See van Galilea gespring het. Sommige van hulle het verdrink, en ander is met pyle doodgeskiet.  Ander se koppe en hande is afgekap toe die Romeine hulle met bote agterna gesit het.  Party het tot by die kant geswem en is dáár doodgemaak.  Josefus sê:  ‘the lake [was] all bloody, and full of dead bodies, for not one of them escaped.’[2]

By ‘n ander geleentheid het die na Joppe toe gevlug, op skepe geklim en in die Middellandse See ingevaar. Die swart noorde wind het hulle skepe teen mekaar en teen die rotse stukkend geslaan.  Sommige het verdrink en ander het hulleself met hulle eie swaarde doodgemaak.

Weer sê Josefus: ‘the sea was bloody a long way, and the [coastal] parts were full of dead bodies; for the Romans came upon those that were carried to the shore, and destroyed them; and the number of the bodies that were thus thrown out of the sea was four thousand and two hundred’.[3]

Volgens Josefus het daar ook hope van die Jode se lyke in die Jordaanrivier gelê, sodat die water ondrinkbaar geword het[4] (vgl. 1 Kon.18:40).  Verder het die Jode se bloed soos riviere in Jerusalem se strate afgestroom.[5]  Daar was so baie bloed, ‘that the fire of many of the houses was quenched with these men’s blood.’[6]

Die buitekant van die tempel het oorgeloop met die bloed van 8500 lyke wat daar gelê het.[7]  Groot plasse bloed het soos mere in die binne- en buitehof van die tempel gelê.[8]

Dit het nie gebeur omdat die Here bloedlustig is nie, maar omdat Hy heilig en regverdig is, en omdat Hy sonde haat (v.5-6). Hy is ook die ewige God wat is en wat was (v.5, Eks.3:14), en dus het Hy nie oorhaastig opgetree het toe Hy sy Ou Testamentiese volk geoordeel het nie.

Vir honderde jare het hulle God se diensknegte – die heilige apostels, profete en die Messias – doodgemaak (v.6, 18:20, 24, 2 Kron.36:15-16, Lk.11:47-51, 13:34, Hd.7:52, 1 Ts.2:14-16). Hulle het bloed vergiet, en moes daarom volgens God se geregtigheid en hulle eie verdienste bloed gedrink het (v.6, 4).  Volgens God se belofte in Dt.28:53-57 en Jes.49:26 het dit gebeur toe die Romeine Jerusalem in 70 n.C. omsingel het:  die Jode het hulle eie kinders geëet.[9]

Die stemme wat onder die altaar was het die engel se woorde in v.5-6 ge-eggo: “Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele.” (v.7).  In 6:9-11 het hulle gebid dat God Hom op hulle moordenaars sou wreek (6:9-11).  Omdat Hy Almagtig, getrou en regverdig was, kon Hy dit gedoen het (v.7, 19:2, Gn.18:25, 119:137, Rm.3:4).

Vuur (v.8-9)

A.g.v. ons familie se Britste, Amerikaanse en Franse voorsate, het ons baie ligte velle. Beide ek en my broer het al tydens ‘n vakansie so rooi soos tamaties gebrand.  Ek hoef seker nie vir jou te sê dat dit verskriklik seer is nie.  Hoe seer moes die sonbrand in v.8-9 dan nie gewees het nie?

Die vierde engel het sy bak oor die son uitgegiet (v.8). Die son wat gewoonlik lig, lewe en hitte gee, het die mense geskroei en hulle gebrand soos wat net vuur kan (v.8-9).  In die hemel kon hierdie plaag nie die gelowiges beskadig het nie (7:16), maar op die aarde het God se volk nie meer sy beskerming gehad nie (v.8, Ps.105:39, 91:1, 121:5-6).

A.g.v. die hitte het mense God se Naam gevloek en gelaster (v.9). Hulle het geweet dat dit Hý is wat die plae gestuur het (v.9).  Die doel was dat die mense hulle moes bekeer het en God met hulle lippe en lewens verheerlik het.

Maar soos Farao het hulle hulle harte verhard en dit nie gedoen nie (v.9, 7:13-14, 22, 8:15, 19, 32, 9:34-35, kontr. 11:13). Weereens het God se volk gewys dat hulle die nuwe Egipte is (11:8).  David Chilton sê:  ‘Israel has become an Egypt, hardening its heart; and, like Egypt, it will be destroyed.’[10]

Duisternis (v.10-11)

Êrens in elke mens se lewe is hy of sy bang vir die donker: ‘n mens kan nie sien of daar gevare in die skadus wegkruip nie.  Hoe erg moet dit dan wees om soos in v.10-11 vir ewig in die buitenste duisternis gewerp te word?

Die vyfde engel het sy bak oor die troon van die dier uitgegooi, sodat sy koninkryk in die duisternis gewerp is (v.10, kontr. 13:4). Ek het reeds in hfst.13 gewys dat die dier Nero en die Romeinse Ryk is, en dat die Jode Rome en haar keiser bo die Messias gekies het (Jh.19:15).  Sy was deel van die dier en sy Koninkryk, en sou daarom saam met hulle in die duisternis gewerp word (v.10, 2).

Weereens kan ons sê dat Israel soos die wêreld en Egipte geword het (11:8, Eks.10:21-29). Daardeur het sy die Here geterg, sodat sy toorn breekpunt bereik het.  Uiteindelik het Hy haar saam met Rome en haar boosaardige keisers in die duisternis van die hel gewerp (v.10-11, 14:10-11, 19:20, Mt.8:10-12).

Dit was so erg dat die mense soos my vriend gemaak het toe ‘n nagadder hom op sy hand gepik het. Om die pyn te versit, het hy sy kop teen ‘n muur geslaan.  Net so het dié wat in die duisternis van die hel gewerp is, hulle tonge gekou (v.10, Lk.16:24).  Dit is seer genoeg as jy per ongeluk jou tong raak byt terwyl jy eet, maar omdat die pyn van die hel so erg is, het hierdie mense hulle eie tonge gekou om die pyn te versit.

Hulle wou egter net van die pyn ontslae geraak het, en nie van dit wat die pyn veroorsaak het nie, nl. sonde. A.g.v. die pyn en swere het hulle die God van die hemel gevloek en gelaster (v.11).

Die feit dat hulle nog die swere van v.2 gehad het (v.11), impliseer dat die siekte en pyne wat ongelowiges op die aarde gehad het, hulle ook in die hel sal hê. As ongelowige Fanie dan met kanker doodgaan, sal dit hom verder teister in die hel.  Omdat ongelowiges selfs in die hel nie ophou om die Here te haat en Hom te laster nie, hou Hy aan om hulle te straf (v.11).

Moenie vir ‘n oomblik dink dat dié wat in die hel is graag by Christus in die hemel wil wees nie. Hulle haat Hom en sal eerder in die hel wees sonder Hom, as in die hemel saam met Hom; in die hel waar hulle hulle sonde kan hê, as in die hemel waar hulle daarmee moet ophou.  Ons speel nie met woorde wanneer ons sê dat hulle die hel vir hulleself gekies het, en dat hulle eerder daar wil wees as in die hemel nie.

Hoe moet ons Op.16 op onsself toepas? Omdat niemand van ons weet wanneer God se toorn breekpunt bereik nie, moet ons dit nie waag om sy geduld te toets nie.  Ons moenie ná vele waarskuwings aanhou om teen die Here te sondig nie.  God is geduldig sodat ons ons kan bekeer, en nie sodat ons verder kan sondig nie (Rm.2:4, 2 Pt.3:9, 15).  Hy sal nie vir ewig geduldig wees nie, en mag dalk op ‘n dag besluit om nie verder te praat nie, maar om op te tree.

Om die breekpunt van sy toorn te vermy, moet jy jou bekeer. Jy kan nie soos die Jode dat jy aan die Here behoort, terwyl jy in die week soos die wêreld lewe nie.  Dit geld vir jou gesinslewe, taalgebruik, humor, drinkgewoontes, gebruik van die internet, ontspanning, dit waarop jy jou tyd en geld deurbring, en meer.  As jy soos die wêreld wil lewe, sal jy saam met hulle gestraf word (v.2).

Moet asb. nie die Here se geduld toets as Hy al oor en oor vir jou gesê het om jou te bekeer nie. Die Here het ‘n groter verlange dat jy saam met Hom in die hemel moet wees as wat jy het (1 Tm.2:4).  Moet dan nie dom wees en die kans verbeur, omdat jy jou eie kop gevolg het en vir jouself gelewe het nie.  As jy eendag hel toe gaan is dit jou eie skuld.  Jy het geweet dat die probleme in jou lewe van die Here af kom, maar soos ‘n hardkoppige ateïs het jy het gekies om in jou sonde te volhard eerder as om jou te bekeer (v.9, 11).

Om dit te doen is heeltemal onnodig, veral as die Here tot die maksimum toe gegaan het om sondaars te red. Uit liefde vir sondaars het God die oorvol bakke van sy toorn oor sy geliefde Seun uitgestort, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (v.1, Jh.3:16).

Jesus het ons so lief gehad dat Hy op Golgota die dood gesterf het wat sondaars soos ek en jy verdien. In die duisternis het Hy aan ‘n aaklige kruis gehang, sodat ons vir ewig in sy lig kan lewe (v.10, Mt.27:45, Kol.1:12-13).  Sy liggaam het ‘n see en riviere van bloed geword, sodat ons in die oseaan van sy liefde kan swem en kan drink uit die strome van lewende water wat daar in die hemel is (v.3-4, Esg.47:1-12, Jh.19:34, Op.22:1, 17).

Hoekom kom jy nie vandag na die Here toe nie? Hoekom steek jy nie beide hande uit om sy gratis verlossing te ontvang nie?  Moenie soos ‘n kind wees wat die wêreld se 10-sente van sonde kies, omdat dit volgens jou berekening swaarder weeg as die $900 triljoen tjek van die hemel nie.

Enigiemand met ‘n halwe brein weet mos dat dit beter is om in hierdie wêreld jou sonde te los en hemel toe te gaan, as om vir ewig jou tong te kou in die hel. En hoekom sal jý anders dink?

Is jy miskien gered? Vir jou wil ek twee dinge sê:

[1] Het ‘n familielid, vriend, kollega of iemand anders jou sleg en onregverdig behandel omdat jy ‘n gelowige is? Het jy dit in gebed met die Here gedeel, maar dit lyk of Hy nie omgee nie?  Moenie die gereg in jou eie hande neem nie; los dit vir die Here.  Op die regte tyd sal Hy hierdie mense oordeel (v.5-7).

[2] Moenie dink dat die pyn (hetsy emosioneel of fisies) en duisternis wat jy tans ervaar ‘n oordeel van die Here is, soos wat dit in Op.16 vir die ongelowige was nie. Wanneer die Here ons deur moeilike tye neem, is liefde altyd die dryfveer.  Hy sal jou beproewing soos staalwol gebruik om jou blink te skuur en om jou meer soos Jesus te maak (Rm.8:28, Heb.12:10-11).

Omdat jy altyd na die Here toe terugdraai en nie probeer om die liniaal van sy geduld met jou sonde te breek nie, het sy toorn vir jou nie ‘n breekpunt nie.

 

[1] Sien my preek, Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666), vir ‘n verduideliking van die merk van die dier.

[2] The Wars of the Jews, Book III, 10:9

[3] Ibid, 9:2-3

[4] Ibid, Book IV, 7:6

[5] Ibid, 1:10

[6] Ibid, Book V, 8:5

[7] Ibid, Book IV, 5:1

[8] Ibid, Book V, 1:3

[9] Ibid, Book VI, 3:3-4

[10] David Chilton, The Days of Vengeance, p.164

Maak seker van jou bestemming

heaven-and-hell

Hoeveel mense is daar nou in die hel wat hulleself oortuig het dat hulle nie daar sal wees nie?  Jy kan dit nie bekostig om te dagdroom wanneer jy hierdie preek lees of daarna luister nie.  Jy moet seker maak van jou bestemming.  Ek vertrou dat Op.14:1-13 jou hiermee sal help.

 

Die hemel (v.1-5, 12-13)

In 2003 het Rick Holland by ‘n konferensie gesê: ‘Why is it that everyone wants to go to heaven, but no one wants to die?’  Dit is immers deur die dood wat ons in die hemel kom (v.13, Lk.16:22, 23:43, 2 Kor.5:8, Fil.1:23).  Nie een van ons kan die dood vermy nie.  Maar ons kan keer dat ons in die hel beland, en seker maak dat ons hemel toe gaan.  In die verse wat volg sê Johannes vir ons iets van dié wat in die hemel is.

 

In teenstelling met die vals lam van 13:11, het die ware Lam van God op berg Sion, beter bekend as Jerusalem, gestaan (v.1, Ps.2:6, vgl. 1 Kon.8:1, Ps.135:21, Jes.40:9, Sef.3:16, Sg.9:9). Johannes het nie hier na die aardse Jerusalem verwys nie, maar na die hemelse een (hfst.21, Heb.12:22, Gal.4:25-26).

 

Die 144 000 verseëlde Jode van 7:1-8 het by Hom gestaan. Hulle het die oordele wat Hy in 70 n.C. oor afvallige Israel gebring het, oorleef (vgl. Esg.9:4-6).  God het hulle by Pella bewaar toe die Romeine Jerusalem vir 42 maande lank beleër het.[1]  Terwyl hulle nog op die aarde was, het hulle in die hemel se aanbidding gedeel (Ef.2:6, Kol.3:3, Heb.12:22-24).  Hoeveel te meer nie toe hulle gesterf het en hemel toe is nie?

 

Om te wys dat hulle aan die Here behoort, het die 144 000 gelowige Jode die Lam en die Vader se Naam op hulle voorkoppe gehad, net soos wat die rebelse Jode die dier se naam en nommer op húlle voorkoppe gehad het (v.1, 13:17, Eks.28:36-38, 2 Tm.2:19).

 

Johannes het ‘n stem in die hemel gehoor. Dit was soos die gedreun van ‘n groot watermassa en van donderweer (v.2, 19:6).  En tog was dit nie ‘n geraas nie, maar so musikaal soos harpe (v.2, 5:8, 15:2).  Die stemme het ‘n nuwe lied van God se verlossing gesing voor die troon en voor die 4 lewende wesens en die 24 ouderlinge wat die troon omring het (v.3, 5:9, vgl. Ps.33:2-3, 96:1-2, 98:1-2, 144:9, 149:1, 4, Jes.42:10).[2]  Net die 144 000 kon die lied geleer het, omdat net hulle van die Here se oordeel oor die aarde of die Beloofde Land [Gk. ] verlos is (v.3).  Geen ongelowige of engel het Christus se verlossing gesmaak nie, en daarom kon hulle nie die lied gesing het nie.

 

Die 144 000 Jode was geestelike maagde – ‘n rein bruid vir die Here – wat nie soos afvallige Israel met die wêreld gehoereer het nie (v.8, hfst.17, Jer.3, Esg.16, 23, Hosea, Jk.4:4, Jes.54:5, 62:4-5, 2 Kor.11:2, Ef.5:25-27).  Hulle het aan die waarheid behoort en nie leuens vertel soos die duiwel se kinders nie (v.5, 21:8, 22:15, Jh.1:48, 8:44, 14:6, 18:37, Ps.15:1-3, 32:2, Sef.3:16).  Hulle was nie sondeloos nie, maar die normale patroon van hulle lewens was onberispelik en opreg (v.5, Fil.2:15).

 

Hulle het die Lam gevolg in voorspoed en in teëspoed (Jh.10:27, 12:26, 1 Pt.2:21). Hy het hulle immers as die eerstevrug van die oes met sy bloed losgekoop (v.6, 5:9, Jk.1:1, 18).  Hulle sou nie saam met die res van die ‘oes’ (die afvallige Jode) geoordeel word nie (v.14-20).  Hulle sou eerder ‘n verdere ‘oes’ van bekerings onder die heidene verseker het (Sp.3:9-10, Jer.2:2-3, Hd.2:41, Rm.1:13, 11:16).

 

Hoe kan jy weet of jy tot bekering gekom het en oppad is hemel toe? Hoe kan jy weet dat die Here se Naam op jou voorkop is, en dat jy aan Hom behoort as dit nie ‘n sigbare merk is nie (v.1)?  Wat is die bewyse – nie die vereistes nie! – dat iemand waarlik tot bekering gekom het?

 

[1] Jy sal die Here prys vir jou verlossing (v.2-3). Iemand wat weet waarvan en waarvoor die Here hom gered het, kan nie anders as om Hom daarvoor te prys nie.  Jy sal Hom ook prys, omdat Hy alles gemaak het (v.7).

 

[2] Tensy jou gesondheid dit verhinder, sal jy nie ‘n ‘eenkant-Christen’ wees wat by die huis bly en jou eie ding doen nie. Jy sal eerder saam met ander gelowiges die Here wil prys (v.1-3).  Jy sal dit in die erediens wil doen, en ook in die hemel.

 

[3] Jy sal nie in jouself en jou goeie werke roem nie, maar in die Here en in die verlossing wat Hy aan die kruis bewerk het (v.3-4, 5:9, 1 Kor.1:31, 2:2, Gal.6:14, Ef.2:8-9, Fil.3:4-9).

 

[4] Jy sal vir die Here lewe en jou sonde haat, omdat jy ‘n rein bruid vir Hom wil wees (v.4, 8). Jy sal die waarheid praat en nie met jou lewe of lippe leuens vertel nie (v.5).  Jy sal opreg wees en só lewe dat mense nie ‘n vinger na jou kan wys nie (v.5).  Jy sal die Here se oordele vrees, sodat jy Hom verheerlik en jou bekeer (v.7).

 

[5] Jy sal die Lam oral volg – nie net hemel toe nie, maar ook na die kruis toe (v.4, Lk.9:23). Jy sal nie jou rug op die Here draai wanneer dit met jou sleg gaan nie.

 

[6] Jy sal nie jou arms vou en terugsit omdat die Here jou gered het nie, maar jy sal wil hê dat ander mense ook tot bekering moet kom (v.4). Om dit te verseker sal jy die evangelie met hulle deel (v.6, Rm.10:13-15, 1 Kor.9:19-22).

 

[7] Jy sal in die Here glo en Hom gehoorsaam, totdat jy doodgaan (v.12-13, Jh.14:15, Mt.10:22, Kol.1:23, Heb.3:14). Nie een van die verseëldes het hulle redding verloor nie (v.1-5, 7:1-8), en jy sal ook nie (Ef.1:13-14, Jh.10:28-29).

 

Sien jy hierdie bewyse van bekering in jou lewe? Indien wel, sal die dood jou nie na die rustelose vervloeking van die hel toe lei nie (v.10-11).  As jy in Jesus glo wanneer jy doodgaan, sal jy die ewige rus van die hemel ingaan en beloon word (v.12-13, Mt.25:21, 1 Kor.3:12-15, Heb.4:9-10).

 

Vir jou is die dood ‘n seën en ‘n wins, omdat dit jou na Christus toe lei (v.13, Fil.1:21). Die dood het nie meer ‘n angel om jou te steek, of tande om jou te byt nie (1 Kor.15:55, Heb.2:14-15).  Jy kan in vrede jou asem uitblaas, omdat Jesus die sleutels van die dood en die doderyk in sy hande het (1:18).  Hy sal jou deur die donker vallei van die dood vergesel (Ps.23:4).

 

Die hel (v.6-11)

Ek ken ‘n oom wat tot bekering gekom het, omdat hy gehoor het hoe erg die hel is. Natuurlik is dit nie die enigste rede hoekom ons hemel toe wil gaan nie.  Maar volgens Johannes is dit ‘n rede hoekom ons met vrees en eerbied op die evangelie moet reageer, hoekom ons ons sonde moet los, en hoekom ons tot die einde toe aan Jesus moet vashou (v.6-12).

 

In v.6 het Johannes ‘n engel bokant sy kop gesien. Hy het die ewige evangelie gebring, sodat God se boodskappers dit aan die bewoners van die land kon verkondig, asook aan elke stam, taal, volk en nasie (v.6).  So het die Here sy liefdevolle verlossing aan sondaars gebied, om hulle van die dier af weg te keer na Homself toe.

 

Sommige kommentators dink dat die evangelie in v.6 nie dieselfde is as die evangelie van verlossing in die res van die Nuwe Testament nie. Maar volgens Paulus is enigiemand wat ‘n ander evangelie bring onder God se vervloeking – al is dit ook ‘n engel uit die hemel (Gal.1:8-9).

 

Buitendien praat Johannes hier van ‘n ewige evangelie, een wat nie verander het of in die toekoms sál verander nie.  Dit is ook ‘n ewige evangelie wat handel oor God wat mense in die ewige verlede uitverkies het, sodat hulle in die ewige toekoms saam met Hom in die hemel kan woon (Rm.8:29-30, Tit.1:1-2).

 

In hierdie ewige evangelie is daar ook ‘n element van vrees. Omdat die Here se onmiddellike en toekomstige oordele oppad is, moes Jode en heidene Hom gevrees en verheerlik het; hulle moes Hom as die Skepper van alle dinge aanbid het (v.6-7).  As hulle hulle nie bekeer het nie maar aangehou het om die grimmige wyn van Babilon se geestelike losbandigheid te drink, sou hulle saam met Babilon tot ‘n val gekom het (v.8, vgl. Jer.51:7).

 

Wie is hierdie Babilon wat die nasies dronk gemaak het met die wyn van haar geestelike losbandigheid (v.8)? Soos Sodom en Egipte in 11:8, is Babilon heel moontlik ‘n skuilnaam vir Jerusalem wat geestelike egbreuk gepleeg het met die nasies (v.8, 18:3, Esg.16, 23, Hosea).

 

Dit lyk of Petrus dit ook so verstaan het. Volgens Hd.1-12 en Gal.1-2 het hy in Jerusalem gebly, en in 1 Pt.5:13 het hy namens die gemeente in ‘Babilon’ groete gestuur aan die verstrooide Jode (1 Pt.1:1).  Petrus en Johannes se gebruik van die naam ‘Babilon’ impliseer dat Jerusalem so sleg en goddeloos geword het soos Babilon in die Ou Testament.

 

In denke en dade was hulle lojaal aan die duiwel en die wêreld. Die dier se merk op hulle hande en voorkoppe, asook hulle aanbidding van die dier en sy beeld het dit bewys (v.9, kontr. die gelowige Jode in v.1).[3]  Omdat Jerusalem die wyn van geestelike egbreuk gedrink het (v.8), sou sy die sterk wyn van God se toorn gedrink het (v.10, 18:6, Job 21:20, Jes.51:17, Jer.25:15-29).

 

Natuurlik geld dit nie net vir die afvallige Jode nie, maar vir almal wat die Here Jesus verwerp en met hulle sonde aanhou. Laat ons met vrees en bewing dink oor wat Op.14 en die res van die Bybel oor die hel te sê het.

 

[1] Die hel is erg

God se engele sal die goddelose in die hel gooi, en die Lam sal teenwoordig wees om sy heilige en regverdige wraak oor hulle uit te oefen (v.10, Mt.13:41-42, 49-50). Volgens v.10 sal Hy die wyn van sy woede onverdund in die beker van sy toorn skink, en maak dat sy vyande dit drink.  ‘Onverdund’ impliseer dat hierdie wyn nie met die soet speserye van sy genade, hoop en liefde gemeng is soos wat dit op die aarde was nie (Ps.75:9, Mt.5:45).  Hy sal in sy toorn en wraak teenwoordig wees (v.10), maar in sy heerlike goedheid sal Hy afwesig wees (2 Ts.1:9).

 

Die hel is nie ‘n plek waar ongelowiges partytjie gaan hou nie. Dit is nie ‘n plek waaroor ‘n mens grappies maak nie.  Dit is nie ‘n plek waar die duiwel jou met ‘n drietand vurk gaan steek nie.  Dit is ‘n plek wat erger is as enige lyding wat jy op die aarde beleef het.  Dit is ‘n plek waar ongelowiges in die vuur sal brand en aan die swawel sal verstik (v.10, 21:8).  Dit is eensaam en donker (Mt.22:13, 2 Pt.2:4).  Dit is ‘n plek waar jy vir ewig sterf, maar nooit dood is nie (20:14, 21:8).  Dit is ‘n bodemlose afgrond (9:2).  Dit is ‘n plek waar die pyn so erg is, dat mense vir altyd sal huil, hulle tonge sal kou en op hulle tande sal kners (16:10, Mt.25:30).  Dit is ‘n plek van ewige verwoesting (Mt.10:28, 2 Ts.1:9).

 

Dit is ‘n plek waar die ongelowige se liggaam en gewete dag en nag geen rus het nie (nie eers vir 5 minute nie), omdat die wurm van God se oordeel vir ewig aan hom sal knaag (v.11, Mk.9:44). Dit is ‘n plek waar siekte, depressie, angs, vrees, demoniese aktiwiteit, en elke ander gevolg van die sondeval ongelowiges sal oorweldig (16:11, Dn.12:2, Jes.66:24, Mt.25:41).

 

Dit is ‘n plek waar mense bewus is van die hemel se vreugde, maar dit nie kan geniet nie (Lk.13:28, 16:23). Dit is nie dat hulle in die hemel wil wees nie:  hulle haat die Here en hou nie op om Hom vanuit die hel te laster nie (16:10-11).

 

[2] Die hel is ewig

Oor dié wat in die hel is sê v.11: “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie”.  Hulle sal brand, maar nie klaar brand nie (v.11, 19:3).  Die Bybel praat van ‘n ewige en onuitblusbare vuur (Mt.3:12, 25:41).  Die rook van Sodom en Edom (Gn.19:28, Jes.34:9-10) is maar net ‘n voorskou van die ewige vuur en rook van die hel (v.10-11, 2 Pt.2:6, Jud.7).

 

‘Maar is dit nie onregverdig om mense vir ewig te straf as hulle net vir ‘n leeftyd gesondig het nie?’ wonder iemand. ‘n Moordenaar kry lewenslange tronkstraf, al het dit hom net 15 sekondes geneem om die persoon dood te maak.  Uiteindelik gaan dit nie daaroor dat jy vir 70 jaar gesondig het nie, maar dat jy teen die ewige, heilige en regverdige God gesondig het.  Omdat Hy oneindig is, is die straf ook oneindig.  Mense wat in die hel is haat die Here, maar nie een van hulle sal sê:  ‘Ek word swaarder gestraf as wat ek verdien’ nie (vgl. Rm.3:19).

 

Buitendien hou dié wat in die hel is aan om teen die Here te sondig (16:10-11, 22:11, Mk.3:29). Dié wat sê dat die hel onregverdig is, verstaan nie hoe ernstig sonde is, of hoe heilig die Here is nie.  En om hierdie rede sê hulle dat ‘n God van liefde nie mense hel toe sal stuur nie.  Volgens hulle sal Hy ongelowiges uitwis, of uiteindelik sorg dat almal hemel toe gaan.  Maar hulle dink nie aan die implikasie van wat hulle sê nie.

 

As daar nie ‘n ewige hel nie…

 

  • Is daar ook nie ‘n ewige hemel nie (Mt.25:46).
  • Is Jesus se God-verlate kruisdood sinneloos (Mt.27:46).
  • Gee die Here nie om dat ongeregtigheid seëvier nie.
  • Hoef mense hulle nie te bekeer nie.
  • Hoef ons nie die evangelie met ongelowiges te deel nie.
  • Sal Satan en sy demone ook in die hemel wees (Mt.25:41).
  • Het Jesus gejok om te sê dit sou beter gewees het as Judas nie gebore is nie (Mt.26:24).
  • Maak Lk.16:26 nie sin wanneer dit sê dat niemand van die hel na die hemel toe kan oorgaan, of andersom nie.

 

Die hel is ewig en erg. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Heb.10:31). Treur daarom oor dié wat nie hulle sonde wil los nie (Esg.18:32, Lk.19:41-42, Rm.9:2). Probeer om hulle van die waarheid te oortuig (2 Kor.5:11). Sê vir hulle (of vir jouself as jy nog nie tot bekering gekom het nie):

‘Moenie dink jy kan met jou sonde aanhou en van die hel ontsnap nie (Mt.18:8-9). Ek pleit by jou om jou sonde te los. Los dit en kom deur geloof na Jesus toe. Hy het immers namens ons die bitter beker van God se toorn gedrink aan die kruis (Mk.14:36). Vlug na Jesus toe en vra Hom om jou van die toekomstige toorn te red (Mt.3:7, Rm.5:9, 1 Ts.1:10).’

Kan ek vir jou vra hoe dinge met jou staan? Waarheen is jy oppad as jy in 2017 moet doodgaan? Maak asseblief seker van jou bestemming.

 

[1] Doug van Meter, http://brackenhurstbaptist.co.za/the-144000-who-are-they/; Josephus, The Wars of the Jews, Book IV, ch.9:1-2; Eusebius of Caesarea, Ecclesiastical History, Book III, ch.5

[2] Sien my preek, ‘n Visioen van die hemel, vir meer inligting oor die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens.

[3] Vir meer oor die dier kan jy my twee preke oor Op.13 lees: Christene, keiser Nero en die ANC en Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666).

Die goue kalf en die God van die Bybel

Golden Calf

‘n Paar jaar gelede het William P. Young se boek, The Shack opspraak gemaak onder Christene.  Talle kerke het Eugene Petersen se aanbeveling onderskryf, dat die boek vir ons geslag is wat John Bunyan se Pilgrim’s Progress vir syne was.  Soos jy onthou het die skrywer God die Vader uitgebeeld as ‘n oorgewig Neger vrou, die Heilige Gees as ‘n klein Asiese vrou, en Jesus as ‘n onaantreklike Joodse man met ‘n krom neus en in denims.  Ons land se bekendste teoloë het die boek geprys.  Maar Young se beskrywing van die Drie-Enige God was ‘n direkte oortreding van die tweede gebod.  Dit was, soos Eksodus 32 dit beskryf, ‘n goue kalf.

 

God is Gees (v.1-6)

In 2010 het ek vir teologiese studente beradingklasse gegee.  Tydens een klas het ek gesê God is ‘n Gees en het nie ‘n liggaam nie (Johannes 4:24).  Een van my studente het gestry en gesê die Skrif praat van God se oë, ore, neus, hande, voete, ens.  Hoe sou jy sy beswaar antwoord?

 

Toe ons kinders was het ons nie mooi verstaan wat plaak is nie.  Die tandarts se plakaat het dit verduidelik as klein mannetjies wat tussen jou tande woon om dit aan te val.  So ook verduidelik die Skrif God op ‘n vlak wat ons kan verstaan.  Teoloë noem dit antropomorfismes (anthropos is die Griekse woord vir mens, en morphe beteken vorm).

 

Sodra ons sê God het ‘n liggaam, beperk ons Hom en sê ons dat Hy ‘n begin en ‘n einde het.  Maar die Skrif sê Hy is ‘n oneindige Gees, en is oral teenwoordig in sy volheid (Psalm 139:7, Jeremia 23:24).  ‘God’s centre is everywhere, and his circumference is nowhere.’[1]

 

Moet dus nie dink God lyk soos enigiets in die skepping nie:  die son, ‘n ster, ‘n berg, ‘n boom, ‘n ou man met ‘n lang wit baard, ‘n goue kalf, ens. (v.1-6, 20:2).  Deuteronomium 4:15-19 sê:

 

“Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele—want julle het géén verskyning gesien op die dag dat die HERE by Horeb uit die vuur met julle gespreek het nie—sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ‘n gesnede beeld, ‘n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie:  ‘n afbeelding van man of vrou, ‘n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, ‘n afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg, ‘n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ‘n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is; dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie—dinge wat die HERE jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het.”

 

Iemand wat God probeer uitbeeld bring Hom af tot op die vlak van ‘n skepsel, en sê daardeur Hy is nie uniek nie.

 

Na hfst.25-31 se instruksies oor aanbidding, lees ons hoe die volk ‘n goue kalf aanbid het (hfst.32).  Moses was vir 40 dae op die berg (24:18).  Die volk wou nie langer wag nie, en het vir Aäron gevra om sigbare gode te maak wat hulle kon lei (v.1).  Die volk het gepraat asof Moses hulle uit Egipte gelei het (v.1), en het vergeet dat God hulle deur die wolk- en vuurkolom gelei het (13:21).

 

Aäron het vir die volk geluister en gevra dat hulle hul vroue, seuns, en dogters se goue oorbelle vir hom moes bring (v.2).  Hulle het die goud gekry voordat hulle uit Egipte weg is (12:35-36).  Die goud was vir die tabernakel bedoel (25:3).  Die goue oorbelle was waarskynlik reeds een of ander vorm van afgodery (vgl. Genesis 35:4).

 

Die volk het hulle oorbelle afgehaal en vir Aäron gebring (v.3).  Hy het die goud gesmelt en ‘n goue kalf daarvan gemaak (v.4).  Hy het seker die idee in Egipte gekry, want Aspis en Mnevis was Egiptiese bul-gode.  Aäron het vir die volk gesê dat die kalf hulle God is wat hulle uit Egipte verlos het (v.4).  Hy het toe ‘n altaar voor die kalf gebou, en gesê dat hulle die volgende dag ‘n fees vir die Here sou hou (v.5).  So het hy en die volk die eerste drie gebooie gebreek (20:3-7).  Hy het God afgebring tot op die vlak van ‘n bees wat gras eet (Psalm 106:20).  Hy het die heerlikheid van God verruil vir ‘n skepsel (Romeine 1:23).

 

Die volk het vroeg opgestaan vir die fees (dis hartseer dat ons ook vroeg kan opstaan vir ons ‘afgode’, maar nie dieselfde kan doen om die ware God in ons stiltetyd te aanbid nie).  Hulle het brandoffers en vredeoffers gebring (v.6).  Soos elke vorm van afgodery, het die volk se vals aanbidding gou gelei tot immoraliteit[2] (v.6, 2 Petrus 2:10, 13-14, 19).  In sy boek Strange Fire, noem John MacArthur ten minste 35 name van vals leraars wat seksueel losbandig is.[3]

 

Uit v.1-6 moet ons leer om reg te dink oor wie God is.  Ons moet dit ook vir ons kinders leer, want as jy God verkeerd voorstel is dit nie lank voordat jy ‘n ander god aanbid nie.  Hoe moet ons oor God dink?

 

[1] Moenie vir Kinderbybels koop met ‘n prentjie van ‘n ou man of ‘n groot hand wat die wêreld skep nie (soos Michaelangelo se prente in St. Peter’s katedraal).

 

[2] Moenie kersvader ophef dat jou kinders hom met God verwar nie (die ou man met die lang wit baard).

 

[3] Moenie praat van die ou man daarbo nie.

 

[4] Moenie dat jou kinders liedjies luister wat vir hulle ‘n vals idee van God gee nie.  D.A. Carson gee ‘n voorbeeld van wat ek bedoel:  ‘If you enter certain American churches you will hear the enthusiastic singing of some such ditty…as “He’s a great big wonderful God.”  Regrettably, I never fail to think of a great big wonderful teddy bear.’[4]

 

[5] Wees versigtig vir boeke wat ‘n vals beeld van God gee (soos The Shack).

 

[6] Pasop vir predikers wat God anders voorstel as wat die Skrif Hom voorstel.  Soms hoor jy predikers sê:  ‘Die God wat ek aanbid is liefde, en sal nie gays hel toe stuur nie… Ek hou daarvan om aan God te dink as ‘n Vader, nie as ‘n Regter nie.’

 

[7] Pasop vir mense wat God se Wese, Persoon, karakter in twyfel trek.  Hulle praat asof die Heilige Gees net ‘n krag is, en nie God self nie.  Hulle praat asof God net liefde is en niks anders nie.  Hulle praat asof God nie soewerein is nie, asof die duiwel Hom soms in skaak sit.  Hulle praat asof ons die Here deur ons gebede kan beheer en manupileer.  Hulle praat asof Hy ons nie kan red tensy ons Hom toelaat nie.  Hulle praat asof Hy nie in die wêreld kan werk tensy ons Hom toestemming gee nie.  Hulle praat asof Hy nie weet wat in die toekoms gaan gebeur nie.  Hulle praat asof Hy nie omgee oor sonde nie, maar dit goedkeur.  Hulle praat asof Hy nie onveranderlik is nie, maar aanpas by die tye.

 

[8] Natuurlik mag ons Bybelse voorbeelde gebruik en sê:  ‘God is my Rots, Skild, en sterk Toring wat my beskerm.  God is ‘n Vader en Herder wat vir sy kinders sorg.  God is ‘n Bruidegom wat lief is vir sy bruid.’

 

[9] Wat van prente van Jesus?  ‘n Vriend het my onlangs gevra wat ek daarvan dink.  Party Christene glo dis verkeerd.  Ek het nie per se ‘n probleem daarmee nie.  Ek voel egter ongemaklik as mense cartoons van Jesus vir kinders voorhou.  Ek glo ook dis verkeerd om beelde van Jesus in die kerk, jou huis, of om jou nek te hê, omdat dit jou help om Hom beter te aanbid.

 

God is jaloers (v.7-10)

In sy boek, The God Delusion het Richard Dawkins ‘n probleem met die Ou Testament wat sê God is jaloers (34:14).  Ek wonder wat hy sal sê as ‘n ander man by sy vrou kuier terwyl hy by die werk is; as hierdie man sy vrou uitvat om te fliek en koffie te drink, vir haar blomme en geskenke koop, sy kinders by die skool oplaai en hulle sport byeenkomste bywoon?  As hy nie jaloers voel nie is daar fout.

 

God is ons Bruidegom en ons is sy bruid (Jesaja 54:5, 2 Korintiërs 11:2).  Dit is reg dat Hy jaloers voel as ons met ander gode en met die wêreld flirt (Hosea 1:2, Jakobus 4:4-5).  Net soos wat geen jaloesie ‘n teken is van koue liefde, is brandende jaloesie ‘n teken van vurige liefde.  Dawkins verwar God se heilige jaloesie vir sy bruid en sy eie eer, met die mens se sondige jaloesie op ander.  In v.7-10 het ons ‘n beskrywing van God se heilige jaloesie vir die eer van sy Naam; ‘n jaloesie dat sy volk Hom alleen moet liefhê.

 

God het vir Moses gesê om na die volk toe af te gaan (v.7).  Die volk het hulle verbond met God gebreek.  God wou nie met die goue kalf geassosieer word nie, en daarom het Hy met Moses gepraat van ‘jou volk wat jy uit Egipte gelei het’ (v.7).  God het gesê dat die volk gou korrup geraak het met sonde en afgedwaal het van die wet wat Hy in hfst.20 gegee het (v.7-8).  God weet dat die volk ‘n goue kalf gemaak en aanbid het, en dat hulle vir die kalf geoffer het (v.8).  Hy het gehoor dat die volk Hom verwerp het, dat hulle gesê het die kalf het hulle uit Egipte gered (v.8).  God het hulle harte geken, en het geweet dat hulle hardnekkig is soos ‘n wederstrewige os onder ‘n juk (v.9, Handelinge 7:51, Jesaja 48:4).  God het vir Moses gesê om Hom te los, sodat Hy die volk kon uitwis (v.10).  Sy toorn het gebrand vir die eer van sy heilige Naam wat hulle belaster het (v.10, Deuteronomium 4:24).  Hy sou Moses tot ‘n groot volk maak (v.10, soos met Noag na die vloed).

 

Ons moet jaloers wees vir God, net soos Hy jaloers is vir ons en vir die eer van sy Naam.  Sal jy traak-my-nie-agtig sit en luister hoe ‘n groep mense jou man of vrou se naam by ander vloek of slegmaak?  Net so moet ons dit nie met God doen as hulle sy Naam in films vloek en laster nie.  Dit herinner my aan ‘n film waar die hoofkarakter uit die 1800’s met ‘n tydmasjien na die 21ste eeu toe reis.  Hy gaan saam met ‘n kerkgroep teater toe om ‘n film te kyk.  Na ‘n paar minute hardloop hy uit en skreeu:  ‘Stop the movie!  Stop the movie!  The man on the screen just blasphemed the Name of the Lord!’  Hoe dikwels is ons nie eers gepla nie?  Ons kyk maar net die ‘movie’ verder asof niks gebeur het nie.  As jy aankyk en niks doen of sê nie, leer jy indirek vir jou kinders dat God se Naam nie heilig is nie.

 

Laat jou ywer en liefde vir God se Naam die hartklop en passie wees wat jou verteer.  “Die ywer vir u huis het my verteer.” (Johannes 2:17).  Moenie verdeeld wees in jou liefde vir God nie (Jakobus 1:8, 1 Konings 18:21).  Moenie toelaat dat jou liefde vir God is soos die môre dou wat gou wegsmelt nie (v.7, Hosea 6:4).  Jesus moet ons eersteliefde wees (Openbaring 2:4).  Dit beteken nie jy mag nie ander dinge of mense liefhê nie.  Maar sorg dat jou liefde vir hierdie dinge ‘n uitdrukking is van jou liefde vir Hom.  As jy nie ywerig is vir die eer van sy Naam nie, sal Hy jou soos lou water uit sy mond uitspoeg (Openbaring 3:16-17).

 

God is onveranderlik (v.11-14)

Tydens my matriekvakansie het ek vir rukkie by WIMPY til geslaan.  Die baas was ‘n slegte man wat een dag vriendelik en opgeruimd was, en die volgende dag sy werkers gevloek het.

 

Tot ‘n mindere of meerdere mate is alle mense so.  Ons bui verander namate ons siek voel, ‘n moeilike dag gehad het, die weer misluk is, ons min geslaap het, ons honger is, ons ouer word en vol pyne is, ons hormone verander, ons stres, ons met iemand baklei het, ens.  God is nie so nie.  Hy verander nie in sy Wese, Persoon, beloftes, karakter, kennis, krag, goedheid, ens. nie.  Die Skrif sê:

 

  • “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Numeri 23:19).
  • “En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.” (1 Samuel 15:29).
  • “Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” (Psalm 102:28).
  • “Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie.” (Maleagi 3:6).
  • “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebreërs 13:8).
  • Jakobus 1:17 praat van God as “die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”

 

Moses het nie sy eie roem gesoek nie; hy het nie begeer dat God van hóm ‘n groot nasie sou maak nie (v.10).  Hy het gesmeek dat God nie toornig moes wees en sy volk wat Hy met plae uit Egipte gered het, uitwis nie (v.11, 7).  In sy gebed het hy twee argumente gebruik:

 

[1] Die Egiptenare sal sê God kon nie sy volk red en behou nie.  Hulle sal sê Hy het sy volk gered om hulle in die berge uit te wis (v.12).  Moses het dus gevra dat God nie sy volk moes oordeel nie (v.12).

 

[2] God het belowe om vir Abaham, Isak, en Israel (Jakob) ‘n nageslag te gee soos die sterre aan die hemel (v.13). Hy het belowe om vir hulle ‘n Land te gee (v.13).

 

Die Here het Moses se gebed beantwoord (v.14, Psalm 106:23, Numeri 14:13-23).  Kan ons dan sê dat Moses gemaak het dat God van plan verander?  Nee, want ons Vader weet wat ons nodig het voordat ons bid (Matteus 6:8).  God bepaal byvoorbeeld hoe lank jy gaan lewe, maar Hy bepaal ook dat jy moet eet, drink, slaap en asemhaal om so lank te lewe.  God het bepaal wie Hy gaan red (Efesiërs 1:4-5, Handelinge 13:48), maar het ook bepaal dat hulle die evangelie moet hoor en glo om gered te word (Romeine 10:13-15).

 

Net so het God bepaal dat sekere dinge gaan gebeur (Efesiërs 1:11, Jesaja 46:9-10).  Maar Hy het bepaal dat dit net sal gebeur in antwoord op gebed.  God het bepaal dat Israel na 70 jaar van ballingskap vrygelaat gaan word in antwoord op gebed (Jeremia 29:11-12, Daniël 9:2-3).  God het bepaal dat Israel sal groei in antwoord op gebed (Esegiël 36:37).  God het bepaal dat sy kinders nie verlore sal gaan nie, en steeds het Jesus gebid dat die Vader hulle in sy Naam sal bewaar (Johannes 10:28-29, 17:11).

 

Ons kan rustig leef met die wete dat God nie verander nie.  Moenie bang wees dat jy jou redding sal verloor nie.  God se liefde en beloftes verander nie.  Hy het belowe Hy sal jou nooit uitwerp nie (Johannes 6:37).  Hy het die ewige lewe belowe vir almal wat glo; Hy kan nie lieg nie (Titus 1:2).  Hy het jou liefgehad met ‘n ewige liefde (Jeremia 31:3), en niks kan jou van hierdie liefde skei nie (Romeine 8:38-39).  God is nie soos mense of ander gode wat jou sal teleurstel nie.  Omdat sy karakter en beloftes nie verander nie, kan jy soos Moses vrymoedig bid en God aan sy verbond en beloftes herinner.  As jy glo dat God soos ‘n tiener ‘moodswings’ kry, sal jy onseker en in vrees lewe.  Moet egter nie dink sy onveranderlike liefde beteken jy kan aspris sondig en net weer vergifnis vra nie.  Onthou dat sy haat vir sonde en sy straf daarop ook nie verander nie.

 

God is toornig (v.15-29)

Die bekendste preek in Amerika se geskiedenis is Jonathan Edwards se ‘Sinners in the Hands of an Angry God’.  Dit is basies ‘n preek oor God se toorn in die hel.  God het dit as ‘n vonk gebruik om die 18de eeu herlewing in New England aan die gang te sit.  Deesdae haat mense Edwards se preek; hulle haat die leerstelling van God se toorn.  Phyllis McGinley skryf in 1961:

 

And if they had been taught aright,

Small children carried bedwards

Would shudder lest they meet that night

The God of Mr. Edwards,

Abrham’s God, the Wrathful One,

Intolerant of error –

Not God the Father or the Son

But God the Holy Terror.[5]

 

Ek was by ‘n vergadering oor die Direkte Vertaling van die Afrikaanse Bybel.  Verskeie kerke was ontevrede daarmee dat verwysings na Jesus in die Ou Testament in kleinletters staan.  Ons het gevra vir hoofletters.  Langs my het ‘n liberale professor opgestaan en kwaai gesê:  ‘Dit is onmoontlik dat die Engel van die Here in die Ou Testament na Jesus verwys.  In 2 Samuel 24 het Hy 70 000 mense doodgemaak.  Jesus is nie so nie!’

 

Maar 1 Korintiërs 10:4-5, 9-10 en Judas 5 wys dat Jesus die volk gestraf het in die woestyn.  Mense kry nie ‘n weersin in God se toorn omdat hulle hoë denke het van sy liefde en genade nie.  Die waarheid is eerder dat hulle lae denke het van sy geregtigheid en heiligheid.  In v.15-29 sien ons iets van God se heiligheid en geregtigheid.  Moses se toorn en die straf in hierdie verse is ‘n refleksie van God s’n (v.10-11).

 

Moses het teen die berg afgeklim met die twee kliptafels van die Getuienis in sy hand.  God het dit aan beide kante vol geskryf (v.15-16).  Josua het teen die berg se helling vir Moses gewag (24:13).  Hy het die geraas in die kamp gehoor en gedink dis oorlog (v.17).  Moses het nie vir hom vertel wat God in v.7-10 gesê het nie, maar het hom verseker dat dit nie mense se gehuil of gejuig ná ‘n oorlog is nie (v.18).  Moses kon duidelik hoor dis mense wat by ‘n fees sing (v.18).  In hfst.15 het die volk vir Jahwe gesing, maar nou het hulle gesing vir die goue kalf!

 

Toe hy naderkom het Moses gesien hoe die volk om die kalf dans (v.19).  Hy was woedend en het God se toorn in hom gevoel brand (v.19, 10).  Hy het die kliptafels teen die voet van die berg gebreek, om so te wys dat die volk God se wet en verbond gebreek het (v.19, 19:8, 24:3, 7).  Moses het die kalf in die vuur gesmelt, dit tot ‘n fyn poeier gemaal, dit in die bergwater gegooi, en die volk gedwing om dit te drink (v.20).  Hy wou die kalf totaal vernietig.  Die volk moes dit uitskei en besoedel.  Die feit dat hulle dit moes drink dui ook aan dat hulle geestelike egbreuk gepleeg het (Numeri 5).

 

Aäron was die leier toe Moses weg was (24:14); dus het Moses hóm aangespreek (v.21).  Hoe kon hy toelaat dat die volk hom so aan neus rondgelei het (v.21)?  Hoekom het hy hulle nie gekeer nie?  Hy het die volk in groot sonde in gelei (v.21).  Die effek van sy sonde was verreikend.  Dit het vir Jerobeam beïnvloed om dieselfde te doen, en het uiteindelik gemaak dat God vir Israel verwerp het (1 Konings 12:28, 2 Konings 17:21-23).

 

Aäron het probeer om Moses se toorn te bedaar, en het die skuld op die volk gepak (v.22, 11-12, vgl. Genesis 3:12-13).  ‘Die volk is boos, het gevra vir gode om hulle te lei, en het gesê dat Moses weg is en nie terugkom nie,’ het hy gesê (v.22-23).  Hy het gesê dat hy nie skuldig is nie:  ‘Ek het net hulle oorbelle gevra, en toe kom die goue kalf self uit die vuur uit’ (v.24, 4).  Hy het dit in Egipte geleer, want daar het hulle ook gesê dat sommige gode hulleself gemaak het.[6]

 

Moses het nie vir Aäron se flou verskoning geval nie; hý was aanspreeklik dat die volk soos ‘n stout hond logesbreek het en amok gemaak het (v.25).  Aäron was daarvoor verantwoordelik dat die vyand met Israel en haar God gespot het (v.25, 12).  Moses het by die kamp se ingang gaan staan en gevra:  ‘Wie staan by die Here; wie is aan sy kant?’ (v.26).  Die Leviete het nader gekom.  God het deur Moses gesê:  ‘Trek julle swaarde en maak julle mede-Israeliete daarmee dood’ (v.27).  Die Leviete het dit gedoen, en sodoende gewys dat hulle God kies bo hulle volksgenote en familie (v.28, Matteus 10:34-37).  Hulle het 3000 mense doodgemaak, heel moontlik mense wat aangehou het met hulle afgodery en losbandigheid (v.28, Numeri 25:6-9).  As beloning vir hulle liefde en ywer vir God, hulle haat vir sonde, het God hulle geseën en afgesonder om Leviete te wees (v.29, Deuteronomium 33:8-9).

 

Dink reg oor God se toorn.  Moenie sy toorn haat en dink dis onregverdig nie.  Hy verloor nie sy humeur soos ons nie, maar is stadig om kwaad te word (Psalm 103:8-9).  Op die oordeelsdag sal sy heilige wet elke mond toestop, sodat mense sê:  ‘Ek is skuldig en kry die straf wat ek verdien.’ (Romeine 3:19, Openbaring 16:5-6).  Op daardie dag sal niemand sy sonde verskoon of wegpraat nie (v.22).  God het alles op rekord.  Jy sal nie kan sê die hond het jou huiswerk uit jou skoolboek geskeur, jou boetie het in jou vuis vasgehardloop, dis jou vriend se leë drank bottel wat hy in jou kar vergeet het nie.

 

Die Bybel sê mense sal vir ewig gestraf word (Openbaring 14:10-11).  Maar is dit nodig om ‘n paar jaar se sonde vir ewig te straf?  Is dit nie onregverdig nie?  Iemand wat dít vra neem aan dat mense net vir ‘n paar jaar sondig.  Volgens die Bybel hou mense in die hel aan met sondig; hulle wil hulle nie bekeer nie (Openbaring 16:8-11, Markus 3:29).  Hulle sonde is ook teen ‘n ewige God, en daarom is die straf ewig (net soos wat die straf groter is as jy ‘n koning klap, as wanneer jy ‘n landsburger klap).

 

As jy nogsteeds dink die straf is te erg, verstaan jy nie God se heiligheid en die mens se sonde nie.  Sonde is ‘n direkte rebellie teen God se heilige wet.  Sonde vloek en haat God; dit sê:  ‘Ek weier dat U oor my regeer.  Ek sal nie die knie buig nie.  Ek sal oor my eie lewe regeer en doen soos ek besluit.’  As sonde kon, sou dit God van sy troon afskuif.  Maar God is ‘n Gees, en daarom kan sonde nie by Hom uitkom nie.  Sonde teen mense wat na sy beeld gemaak is, is indirek rebellie teen Hom.  Iemand wat ander vermoor, verkrag, vloek, baklei, van hulle skinder, hulle belieg en beroof, met hulle egbreuk pleeg, hulle haat, wellustig is teen hulle, ongehoorsaam is aan hulle ouers, jaloers is, kwaad is vir hulle, doen dit omdat hulle God se beeld haat.  Dit geld ook vir sonde teen jouself, want jy is na God se beeld gemaak:  selfmoord, homoseksuele dade, dronkenskap, dwelm misbruik, ooreet, ens.

 

Moenie God se toorn haat nie, maar besef jy verdien dit.  Vlug na die kruis toe, want dáár het Jesus God se toorn op Homself geneem, sodat jy daarvan kan ontsnap (Galasiërs 3:13, 1 Tessalonisense 1:10).  ‘Die kruis staan tussen ons en die donderwolke van God se toorn.’[7]  Buig nederig voor Hom, bely jou sonde, bekeer jou daarvan, en vertrou op Hom as jou enigste hoop.  As jy God se toorn ontken, gaan jy ‘n aaklige verrassing kry.

 

God is regverdig (v.30-35)

In 1990 het Randy Alcorn by aborsie klinieke in die V.S.A. gestaan en vroue vredevol probeer oortuig om nie hulle kinders te vermoor nie.  Die polisie het hom gearresteer en in die tronk gesit.  ‘n Ander kliniek het hom vir $8.2 miljoen gedagvaar.  Hy was bereid om die geld te betaal, maar wou dit nie betaal aan die aborsiekliniek betaal nie.  Hy het geweet hulle sal sy geld gebruik om nóg babas te vermoor.  Die hof het toe gesê sy kerk moet elke maand 25% van sy salaris aan die aborsie kliniek betaal.  Om dit te verhoed het hy by uit die kerk bedank.[8]

 

Ons kyk na so iets en sê:  ‘Ongeregtigheid!’  Oor die afgelope paar jaar het ons dikwels dieselfde gevoel oor dit wat in ons eie land gebeur.  Ek is dankbaar dat God regverdig is, en sien uit na ‘n nuwe hemel en aarde waarin geregtigheid woon (2 Petrus 3:13).  Ek wonder soms hoekom Christene kla oor God wat sondaars in die Skrif summier doodgemaak het?  Wil ons hê God moet soos ons korrupte wêreldse howe wees, en nie geregtigheid bring oor diewe en rowers, moordenaars en verkragters nie?

 

Toe Israel die volgende dag nugter was, het Moses gesê hulle sonde is baie ernstig (v.30).  Hy het gesê hy sou weer op die berg met God gaan praat, om te kyk of Hy die volk se sonde sou versoen (v.30).  Moses het geweet dat gebed nie genoeg was nie, en dat daar versoening nodig was (v.11-13, 30).  Moses het teen die berg opgeklim en bely dat die volk se sonde van afgodery groot was (v.31).  Hy het God vir versoening en vergifnis gesmeek (v.32, Deuteronomium 9:20).  Hy het geweet dat ‘n lam nie genoeg was nie, en het daarom gevra dat God sy naam uit die boek sou wegvat (v.32, Romeine 9:3).  Die boek waarvan hierdie vers praat is nie die Boek van die Lewe nie, want niemand se naam kan daaruit weggevat word nie (Openbaring 3:5, 17:8, Johannes 10:28-29).  Die boek verwys eerder na ‘n rekordboek van die name van almal wat nog op aarde lewe (Psalm 69:29).  Moses het dus gevra dat God hóm eerder as vir húlle moes doodmaak (v.32).  Soos Jesus wou hy in hulle plek sterf.

 

God het nie sy versoek aanvaar nie, want die siel wat sondig moet sterf (v.33, Esegiël 18:4, 20).  Buitendien kan geen mens ‘n ander een se siel loskoop nie; net God kan dit doen (Psalm 49:8, 16).  Moses moes die volk na die Beloofde Land toe lei; God se Engel sou saam met Hom gaan (v.34, 13, 23:20-22, 14:19, 24, 3:2, 4, 6, 14-15).  God sou nie dadelik die hele volk doodmaak nie, maar sou hulle op grond van Jesus se toekomstige kruisdood vergewe (Romeine 3:25).  God het wel dié gestraf wat hulle nie bekeer het nie (v.34).  God het baie met die plaag getref, maar Hy het ook die meeste van hulle gespaar (v.35).

 

Moenie vergeet dat God ‘n regverdige Regter is nie.  Alhoewel Hy die Verlosser is, sal Hy op die oordeelsdag sit as Regter van die heelal (Johannes 5:22, 27, Handelinge 17:31).  God weet alles en het ‘n volledige rekord van elke mens se woorde, gedagtes, begeertes, dade (Openbaring 20:12-13, Romeine 2:16).  Jesus sal regverdig oordeel (Genesis 18:25, Deuteronomium 32:4).

 

Wat wys die rekord van jóú hart?  Sal jy hemel toe of hel toe gaan?  Moenie dink Jesus is ‘n Regter wat net dreig en nie die straf kan uitvoer nie (soos Zuma, Obama, en Duitsland wat die aanvalle in Parys verdoem het, maar niks daaraan doen nie).  God is heilig en almagtig; Hy sal en kan straf (Jakobus 4:12, Matteus 13:41-42).  As jy in Jesus glo sal jy die oordeel vryspring, want Hy het namens jou die straf gedra aan die kruis (Johannes 5:24, Romeine 8:1).  As jy in Hom glo sal die Regter vir jou ‘n Redder word.  Jy sal nie in die hemelse hof verskyn nie, maar sal wel by die prysuitdeling wees om beloon te word vir jou diens (1 Korintiërs 3:12-15).

 

Party mense vra wat die punt van die oordeelsdag is, as ongelowiges reeds in hel is?  In enige goeie land hou die regering die misdadiger in die tronk, totdat hy in die hof verskyn en die regter sy straf aankondig.  Net so sluit die Here die goddelose toe in die tronk van die hel, totdat hulle op die oordeelsdag voor die hemelse Regter verskyn en Hy hulle straf aankondig (2 Petrus 2:9).  Net soos daar in aardse tronke grade van straf is, is dit in die hel.  Alhoewel mense vir ewig in die hel sal wees, sal party ongelowiges ‘n groter straf kry as ander (Matteus 11:22, 24, 26:24, Lukas 12:47-48, Johannes 19:11).

 

Iemand wat God se geregtigheid onthou sal hom of haar gedurig bekeer.  So iemand sal ook vasbyt as onregtigheid in die wêreld heers, want hy weet God sal uiteindelik toesien dat geregtigheid geskied.

 

In ‘n preek vertel Mark Dever hoe hy saam met ‘n vriend in Londen geloop het.  Twee mans met wit hemde, swart broeke, en swart dasse het van voor af aangekom.  Dever het vir sy vriend gesê:  ‘Dis Mormone.’  ‘Hoe weet jy?’ het sy vriend gevra.  Dever het gesê:  ‘Glo my, ek’s ‘n Amerikaner.’

 

Toe die mans verbystap, het Dever hardop vir sy vriend gesê:  ‘Ek het ander dag oor Joseph Smith gelees.’  Die mans het gestop en geglimlag.  Hulle het begin gesels en die evangelie met die Mormone gedeel.  Dever het vir die man gesê:  ‘Julle glo God was nie altyd so nie, maar het so geword.  God het mens geword, sodat ons gode kan word.’  Die man was beïndruk dat Dever iets van hulle godsdiens geweet het.  Dever het verder gesê:  ‘Weet jy dat die Skrif ook praat van mense wat soos God sal word?’  Nou was die man regtig beïndruk.  ‘Ja,’ het Dever gesê, ‘Satan het vir Eva gesê:  julle sal soos God word.  Julle hele teologie is gebou op Satan se leuen in Genesis 3:5.’

 

Dit is nie net Mormone wat dít glo nie.  Duisende Christene onderskei nie tussen die God van die Bybel en die goue kalf op TBN nie.  Kenneth Copeland het vir ‘n gehoor gesê:  ‘You’re all god.  You don’t have a God living in you; you are one!  You are part and parcel of God.’[9]  Copeland en sy ‘clan’ het ‘n goue kalf in mense se harte gebou.  Mag die Heilige Gees ons bewaar dat ons nie hiervoor of vir enige ander wanvoorstelling van God sal val nie, maar net die God van die Bybel sal aanbid.

[1] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.46

[2] Die Hebreeus vir ‘speel’ is ‘n versagtende woord vir seksuele aktiwiteit (Genesis 26:8, 1 Korintiërs 10:7-8).

[3] Strange Fire, pp.60-66, 264-265, n.4

[4] The Sermon on the Mount, p.70

[5] Iain Murray, Jonathan Edwards:  A New Biography, xxi

[6] John Currid, A Study Commentary on Exodus: vol.2, pp.284-285

[7] J.I. Packer, Knowing God, p.176 (vry vertaal).

[8] Randy Alcorn, The Treasure Principle, pp.21-22

[9] John MacArthur, Strange Fire, p.11

Die tien plae: Donker en dood

Death of firstborn

Afgodery is dom en maak jou so.  Oor dié wat afgode dien sê Jesaja 44:18-20:  “Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie; en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie:  Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan ‘n gruwel maak?  Sal ek neerkniel voor ‘n stuk hout?  Hy wat hom besig hou met as, ‘n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?”  Afgode is blind, doof, en stom.  Almal wat hulle aanbid word ook so (Psalm 115:8).

 

‘n Man vat ‘n stuk yster en maak ‘n god daarvan.  Hy word moeg en honger terwyl hy werk (Jesaja 44:12).  Of hy kap ‘n boom af.  Hy brand ‘n stuk hout om warm te kry, brood te bak, of vleis te braai.  Met die res maak hy ‘n god.  Hy aanbid dit en vra dat die god hom sal red (Jesaja 44:13-17).  Die god kan nie self loop nie – iemand moet hom dra (Jesaja 46:1-2).  Hy moet dit op ‘n voetstuk vasspyker, sodat dit nie omval nie (Jeremia 10:3-5).  Die god kan nie hoor, sien, praat of help nie (Psalm 115:4-7).

 

Natuurlik praat ons hier net van beelde.  Maar ‘n afgod kan ook in ons harte wees.  As jy byvoorbeeld meer maak van geld as van God, aanbid jy ‘n afgod (Matteus 6:24).  Om ‘n skewe beeld van die ware God te hê, is ook ‘n afgod.  Iemand wat praat asof God sonde aanvaar of alewig mense wil straf, aanbid ‘n afgod.  Eksodus 10:21-11:10 gee vir ons ‘n beeld van die ware God wat red en straf.

 

Die negende plaag:  Donker (10:21-29)

Alcatraz was die V.S.A. se maksimum gevangenis.  Die misdadigers wat hier was sê dat die donker sel die ergste straf was:  ‘As hulle jou daar toesluit wil jy mal word.’  In Suid-Afrika ken ons die frustrasie van beurtkrag.  Maar wat as dit soos die negende plaag was en jy nie ‘n kers of kragopwekker het nie; as die hele land donker is?

 

Moses moes sy hand na die hemel toe uitstrek.  God het vir Amon-Ra, Egipte se opper-songod getref.  Die maangod Thoth het ook deurgeloop.  Duisternis is ‘n simbool van God se oordeel oor sonde:  “En dit is die oordeel:  dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos… En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe” (Johannes 3:19, Matteus 27:45).

 

‘n Mens kon die duisternis voel (as jy ooit in die Goede Hoop kasteel se donker gat was, kan jy bevestig dat dit so is).  Die drie dae in v.22 stem ooreen met die drie dae in 8:27:  “Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die HERE onse God kan offer soos Hy ons sal beveel.”  Farao het geweier en nou het God hom vir drie dae met duisternis getref.

 

Wat was die effek van die duisternis?  Dit moes seker baie koud geword het.  Kinders sou bang gewees het.  Die Egiptenare self het gevrees omdat Amon-Ra vir so lank weg was.  Dit moes eensaam en vervelig gewees het.  Sonder ‘n yskas met ‘n liggie in, was dit seker moeilik om kos en water te soek.  In Gosen waar die Israeliete gebly het, was dit lig.  Farao het vir Moses laat roep en gesê dat die kinders saam kon trek (v.24, 10).  Hy het egter gesê dat die vee moes agterbly.  Moses was nie bereid om God se Woord te kompromeer nie, en het gesê dat die vee moes saamgaan, omdat hulle dit vir die Here moes offer.  God wou nog een plaag stuur.  Daarom het Hy Farao se hart verhard.

 

Farao het geweier om die vee saam te stuur.  Hy het gesê dat Moses nie weer sy gesig sou sien nie (onthou, dis donker), maar sou sterf.  Moses het geglo dat God sy volk sou bevry en was nie bang vir Farao nie (Hebreërs 11:27).  Hy was sarkasties en het Farao se woorde beaam:  ‘Jy’s reg Farao – ek sal nie weer jou gesig sien nie!’

 

Ons moet die lig van God se guns soek.  Toe Jesus aan die kruis was het die son vir drie ure opgehou skyn (Lukas 23:44-45).  Sy liggaam was vir drie dae in ‘n donker graf (Matteus 16:40).  Dit het Hy gedoen, sodat God se lig oor ons kan skyn.  Sy lig skyn oor:

 

  • Dié wat in Hom glo en Hom volg: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Johannes 8:12).
  • Dié wat hulle sonde bely en laat staan: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:5-7, 9).
  • Dié wat hulle broers liefhet: “Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.” (2 Johannes 2:9-11).
  • Dié wat God se Woord lees en gehoorsaam: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Psalm 119:105).
  • Dié wat die armes liefhet en versorg: “jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring… As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee… Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees. Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.” (Jesaja 58:7-10).

 

Ons moet God se lig reflekteer deur goeie werke en evangelisasie:  “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).  “Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” (Handelinge 13:47).

 

In die hemel sal God se lig altyd oor ons skyn (Openbaring 21:22-24, 22:5).  In die hel is dit donker (Matteus 25:30, Judas 6, Openbaring 16:10).  Dit is seker ook eensaam en vervelig.  Daar sal jy bang wees vir die donker.  Wie die ware God dien het lig en blydskap:  “welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is!” (Psalm 144:15).  Dié wat afgode dien het oneindige smart:  “Die smarte van hulle wat ‘n ander god met gawes vereer, sal menigvuldig wees” (Psalm 16:4).  As jy sê dat ‘n God van liefde nie mense in die buitenste duisternis van die hel sal werp nie, aanbid jy ‘n vals god.

 

Die tiende plaag:  Dood (11:1-10)

Jy het seker al gehoor dat mense sê:  ‘Kinders moet hulle ouers begrawe, nie andersom nie.’  Toe ek studeer het is een van my mede-studente in ‘n ongeluk dood.  Vier jaar later het ek haar ma gebel om te hoor hoe dit gaan.  Haar woorde was:  ‘Dit sal seker nooit goed gaan nie.’  ‘n Vierjarige kind is in my vriend se arms dood.  Hy het vir my gesê dat ‘n kind se begrafnis erger is as ‘n grootmens s’n.  Nou het jy ‘n idee van hoe erg dit was toe die eersgeborenes in Egipte dood is.  Regoor die land het die ouers gehuil.  Die hel is erger.  Dit is vir ewig ‘n plek van trane:  “daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matteus 25:30).  J.C. Ryle het gesê:  ‘There is a place where there is some tears – earth.  There is a place where there is only tears – hell.  There is a place where there is no tears – heaven.’

 

Hoekom het God tien plae gestuur en nie nege of elf nie?  Tien is ‘n getal van volheid.  God wou wys dat Hy Egipte se gode totaal en finaal vernietig het.  Farao sou die Israeliete verdryf:  mans, vroue, kinders en vee.  Die Israeliete moes hulle bure vra vir goud en silwer.  Hulle sou dit later gebruik om die tabernakel te bou (ongelukkig het hulle eers ‘n goue kalf gebou!).  God het die Egiptenare se harte sag gemaak, sodat hulle hul juwele vir die Israelite gegee het.  So is Genesis 15:14 vervul:  “hulle [sal] uittrek met baie goed.”  God het vir Moses voor die Egiptenare en die volk Israel verhef (vgl. Deuteronomium 34:10-12).

 

God het gesê dat Hy die Egiptenare teen middernag sou tref (v.4).  Hulle het geglo dat Amon-Ra in dié tyd na die onderwêreld toe is.  Jahwe het weereens gewys dat Egipte se gode magteloos is, en dat Hy nie sluimer of slaap nie (Psalm 121:4).  God sou die eersgeborenes van Egipte tref:  van Farao se opvolger wat op die troon sit (die Egiptenare het geglo Farao is ‘n inkarnasie van Amon-Ra en Osiris) tot die slavin se seun en die vee.  Die Egiptenare het Israel se seuns doodgemaak (1:22).  Nou sou God Farao se seun tref (4:23).

 

Die Egiptenare het erg getreur en waarskynlik uitgeroep tot hulle gode, maar dit het nie gehelp nie.  Kontrasteer dit met 2:23-25 waar Israel uitroep en God hulle verhoor.  Nie eers ‘n hond sou teen die Israeliete en hulle vee grom nie.  Met ander woorde, Jahwe het hulle beskerm en daarom sou hulle nie in die minste skade ly nie.  Die Egiptiese god van die doderyk (Anubis) het ‘n hond se kop gehad.  Hy kon nie teen God se volk staan nie.  Met die laaste plaag sou God weer ‘n duidelike onderskeid tussen sy volk en die Egiptenare tref.  God het voorspel dat Farao se diensknegte hulle voor Moses sou neerbuig en smeek dat die Israeliete moes trek.  Moses is in heilige toorn voor Farao weg (Efesiërs 4:26).  Farao wou nogsteeds nie luister nie.  God het hom verhard, sodat Hy nog hierdie laaste plaag kon stuur.

 

Het jy ‘n vyand wat die lewe vir jou moeilik maak?  ‘n Persoon wat jou fisies seermaak?  Dalk iemand wat jou verbaal of emosioneel boelie?  Is dit ‘n baas by die werk, jou huweliksmaat, ‘n familielid, ‘n kind by die skool?  God kan jou vyand se hart sag maak, sodat hy aan jou goed doen (v.3, Spreuke 16:7).  Hy kan jou vyande voor jou voete laat neerbuig (v.8, Filippense 2:10, Openbaring 3:9, 2 Samuel 16:5, 19:18).

 

Moet daarom nie jou vyande vrees nie (Hebreërs 13:6), maar bid vir hulle, seën hulle, doen goed aan hulle, en probeer om vrede te maak (Lukas 6:27-36, 23:34, Romeine 12:14, 20-21, 18).  Maar wat as hulle nie wíl verander nie?  Dan moet jy nie self wraak neem nie (Romeine 12:19).  Los dit vir die Here; gee die saak vir Hom in gebed:  “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag… toe Hy uitgeskel is, [het Hy] nie terug uitgeskel…nie; toe Hy gely het, [het Hy] nie gedreig…nie, maar dit oorgegee…aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23, Psalm 37:5-6).  Jy kan hulle nie volgens verdienste straf nie; God kan.  Hy sien hulle harte en sal die straf uitmeet wat hulle toekom.

 

Die gode van die nasies veg soms teen mekaar.  In ‘n Babiloniese mite het een god ‘n ander middeldeur gekap en sy ingewande gebruik om die hemel en aarde mee te maak.  Die gode staan nie ‘n kans teen die ware God nie.  Om die waarheid te sê bestaan hulle eers nie.  Hy alleen is die ware God.

Die hel is erger as wat jy gedink het

Hell

Die hel is erg

[1] Die Griekse woord vir ‘hel’ in Matteus 18:9 is Gehenna.  Hierdie naam is ‘n transliterasie van die Hinnom-vallei (suid van Jerusalem, Josua 15:8) waarvan ons in die Ou Testament lees.  Toe die volk in afgodery verval het, het hulle hul kinders hier verbrand vir Moleg (Jeremia 7:31).  Later het dit ‘n ashoop geword waar mense hulle vullis verbrand het.  Soos by enige ashoop was daar wurms tussen die rommel.  Die vuur het nooit opgehou brand nie.  Jesus gebruik die beeld van hierdie vervloekte plek om die hel te beskryf.  Die hel sal ook ‘n vervloekte plek wees.  Enigiemand wat daarheen gaan is afgryslik en haatlik.  Party tekste in die Nuwe Testament vertaal die woord Hades met ‘hel’ (soos Lukas 16:23).  Hades word gewoonlik gebruik van die hel vóór die wederkoms, terwyl Gehenna verwys na die hel ná die wederkoms.

[2] Jesus beskryf die hel as ‘n onuitblusbare vuur (Markus 9:48).  Het jy jouself al ooit gebrand op die stoofplaat, in die oond, met ‘n kers?  Hoe moet dit wees om vir altyd te brand?  Kan jy jouself hierdie pyn indink?

[3] Die hel is soos ‘n tronksel van eensame afsondering; ‘n plek waar jy vir ewig gebind sal wees (22:13, 23:33, 2 Petrus 2:4).  Jy sal die gekerm en gehuil van ander mense hoor, maar jy sal vir ewig nie ‘n ander persoon sien nie.  In die hemel is daar ‘n heerlike samesyn van mense.  In die hel sal dit bitter eensaam wees.

[4] Die hel word beskryf as ‘n poel van swawel en vuur (Openbaring 21:8).  Die beeld is een van mense wat versmoor, verstik en verdrink.  Min dinge kan erger wees as dit.

[5] Mense sal gepynig en gemartel word (Openbaring 14:10).  Enige aardse marteling waaraan jy kan dink vergelyk nie hiermee nie.

[6] Die hel is ‘n plek waar Satan en sy demone gestraf word (Matteus 25:41).  Satan en sy demone sal ook die mense wat daar is teister en haat.  Dink jy Satanisme of demoon-besetenheid is erg?  In die hel sal mense van aangesig tot aangesig met die ergste demoniese aktiwiteite kom.  Die hemel is ‘n plek vol van liefde, en die hel ‘n plek van onverdunde haat.

[7] Party lyke word deur wurms geëet (sien Handelinge 12:23).  Hoe sal dit wees om lewendig te wees en vir ewig deur wurms geëet te word (Markus 9:48)?

[8] ‘n Gelowige se gewete is skoongewas (Hebreërs 9:14).  In die hel sal jou gewete nooit ophou om jou aan te kla nie.  Die woorde van preke soos hierdie sal oor en oor in jou kop speel.  Jy sal weet jy moes jou bekeer het, maar nou is dit te laat.

[9] In die hel word jy nie skielik regverdig nie.  Die mense daar hou aan met sondig.  Markus 3:29 praat van ‘n ewige sonde en Openbaring 22:11 sê:  “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word…”  Op aarde perk God nog goddelose mense se sonde in.  Daar word mense totaal en al oorgegee aan die genadeloosheid van hulle eie sonde.

[10] Mense in die hel sal geskei wees van God en al sy goedheid (2 Tessalonisense 1:9).  Op aarde het die ongelowige nog voorregte soos sonskyn en pizza geniet.  In die hel is daar nie ‘n druppel van God se goedheid nie.

[11] Dié wat in die hel is sal depressief wees, angstig en vreesbevange wees, die ergste siektes denkbaar ervaar (kanker, gout, longontsteking, migraine, ensovoorts) en baie ander gevolge van die sondeval beleef.

[12] Inwoners van die hel sal van ver af die vreugdes van die hemel sien, maar niks daarvan kry nie (Lukas 13:28, 16:23).  Moet egter nie dink dat mense wat in die hel is graag heilig en in die hemel wil wees nie.  Hulle vloek God vanuit die hel en wíl hulle nie bekeer nie (Openbaring 16:11).

[13] Die hel word beskryf as ‘n plek van diep duisternis (25:30).  Mense in die hel sal nooit die lig van God se guns beleef nie.  Dit sal ‘n erger marteling wees as die Donker Gat in Kaapstad se Goede Hoop kasteel.

[14] Die hel word beskryf as ‘n bodemlose afgrond of put (Openbaring 9:2).  Hoe moet dit wees om vir ewig te val?

[15] In die hel sal jy altyd die nagmerrie van die dood moet deurmaak sonder om ooit finaal te sterf (Openbaring 20:14).

[16] In die hel huil mense, kners op hulle tande, kou hulle tonge van pyn, en word vernietig in liggaam en siel (10:28, 25:30, Openbaring 16:10).  As jy eet en jy byt jou tong raak is dit seer.  Daar sal jy vir altyd jou tong kou van pyn.

[17] Iemand het gesê:  ‘Heaven is being in God’s presence forever with a Mediator.  Hell is being in his presence forever without a Mediator.’  Openbaring 14:10 sê dat mense in sy teenwoordigheid sal ly.  Dit moet skrikwekkend wees om in ‘n toornige en heilige God se gesig te kyk!

Die hel is ewig

As die bogenoemde dinge tydelik was, sou daar hoop wees.  Maar die hel is ewig.  Jesus praat van die ewige vuur (Matteus 18:8b).  Johannes skryf:  “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie” (Openbaring 14:11).  Mense wat sê ongelowiges sal net uitgewis word, neem nie Jesus se woorde ernstig op nie.  Mense wat glo in ‘n vagevuur of universalisme (‘almal sal uiteindelik gered word’) ook nie.  As die hel nie ewig is nie, is die hemel ook nie ewig nie, want Jesus sê:  “En [die goddelose] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.” (25:46).  As daar nie ‘n hel is nie, was Jesus se Godverlate toestand aan die kruis heeltemal onnodig (27:46).  Jesus is die ewige God, en kon dus binne ‘n paar uur aan die kruis ‘n ewige straf namens ons ondergaan.  As daar nie ‘n hel is nie, sal die ongeregtighede van hierdie wêreld nooit reggestel word nie.  As daar nie ‘n hel is nie, is daar geen straf vir Satan en al die boosheid wat hy gedoen het nie.  ‘n Ewige en heilige God vereis dat die hel ook ewig moet wees.  Solank as wat God heilig is, sal Hy sonde straf.  In die hel sondig mense vir ewig (Markus 3:29, Openbaring 16:11), en daarom word hulle vir ewig gestraf.

Die regte reaksie op die realiteit van die hel

[1] Moenie die Here of sy lering oor die hel haat nie.  Moenie sê God is wreed en onregverdig nie.  Laat hierdie leerstelling jou eerder aanmoedig om die Here te aanbid vir sy regverdigheid, heiligheid, almag en toorn om sonde te straf (Romeine 9:22).  Die Here is wys en goed, en daarom moet ons Hom nie bevraagteken oor die hel nie.  Prys en dank die Here vir sy liefde en genade:  jy het óók die hel verdien, maar Hy het jou gered.  Niemand in die hemel sal hartseer wees oor mense wat in die hel is nie.  Eerder:  jy sal die Here prys vir die dinge wat ek nou-net genoem het:  Jesus se lewe en kruisdood, God se liefde en genade, die evangelie, God se geregtigheid, heiligheid en krag.  “Halleluja!  En haar rook gaan op tot in alle ewigheid.” (Openbaring 19:3).

[2] Laat jou hart gebroke wees en ontferm jou oor dié wat daarheen gaan.  Verneder jouself voor God.  God self het geen plesier in die dood van die goddelose nie, maar wil eerder hê dat hulle hul moet bekeer en lewe (Esegiël 18:32).  Jesus het gehuil oor dié wat hulle nie bekeer het nie (Matteus 23:37, Lukas 19:41).  Paulus ook (Romeine 9:2-3, Filippense 3:18-19).  Jy moet ook.

[3] Wees ernstig oor die ewigheid.  Moenie grappe maak oor die hel nie.  Vrees God.

[4] In ons land en wêreld is daar baie ongeregtigheid.  Dank God dat reg en geregtigheid op die einde sal geskied.

[5] Veg hard en met erns teen sonde (Matteus 18:7-9).  Dink oor die hel en besef hoe aaklig sonde is, want dit is sonde wat maak dat mense hel toe gaan.

[6] Moenie self wraak neem nie; los dit vir God (Romeine 12:19).  Dink eerder daaraan dat jou vyande in hierdie verskriklike plek sal beland, en voel jammer vir hulle.

[7] Laat die leerstelling oor die hel jou dryf om die evangelie met mense te deel.

[8] Bekeer jou en glo die evangelie.  Moenie jouself flous en dink jy kan aanhou sondig sonder dat daar gevolge sal wees nie.  Moet jou nie verbeel dat ‘n liefdevolle God niemand hel toe sal stuur nie.  Die Bybel sê uitdruklik dat geen onheilige en onregverdige persoon hemel toe sal gaan nie (1 Korintiërs 6:9-10, Hebreërs 12:14).  Doen alles in jou vermoeë om die lot van die hel te ontsnap.  Moenie met sonde speel nie, want dit is sonde wat daarheen lei (Romeine 6:23).  Hoe kan jou sonde vergewe word?  Jesus het hel aan die kruis deurgemaak vir ons.  As jy jou bekeer en op Hom vertrou sal Hy jou sonde uitwis en sy volmaakte geregtigheid aan jou toereken.  Hy sal jou dan help om te stry teen sonde en versoeking, sodat jy nie in daardie verskriklike plek beland nie.