Die kraampyne en hoop van verlossing

Labour pains

My suster is byna 9 maande swanger.  Sy is baie ongemaklik, loop swaar, sukkel om te slaap, kan nie vir lank sit nie, en vind dit moeilik om op te staan.  Die pyn gaan binnekort erger raak.  Maar as sy volgende week die baba vashou, sal sy gou van die ongemak en pyn vergeet.  Die vreugde waarvoor sy gehoop het, sal ‘n realiteit word.

 

Dit is presies wat in Jes. 26 aan die gang is:  ons kan die kraampyne van hierdie wêreld verduur, omdat die hoop van ons verlossing ten volle vervul sal word.

 

Die sterk stad (v.1-6)

Hoe weet jy of die stad waarin jy bly sterk is?  Waaraan meet ‘n mens dit?  Aan die welvaart, bevoegdheid van die plaaslike munisipaliteit, dienslewering, beskikbaarheid van produkte, water, elektrisiteit en mediese versorging, hoe goed die skole is, hoeveel goeie kerke daar is, die effektiwiteit van die polisie, of wat?

 

In Jesaja se tyd was ‘n stad sterk as dit hoë mure gehad het, sodat vyande dit nie kon binnedring nie.  In v.1-6 beskryf Jesaja hoeveel sterker God se stad as die stede van hierdie wêreld is.

 

In die dag wanneer God sy volk verlos en haar vyande vernietig (hfst. 25), sal sy die lied van Jes. 26 in Juda sing:  ‘God het die vyand se vestingstede vernietig om sýne te bou’ (v.1, 25:2, 12).  Sy verlossing is die mure en skanse om sy volk te beskerm (v.1, 60:18).  God se volk het in hierdie verlossing geroem (v.1, vgl. Gal. 6:14).

 

Die stadspoorte was oop, sodat die regverdige en getroue volk – die Jode en heidene wat in Jesus glo (Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10) – daardeur kon ingaan na die Here toe (v.2).  Die oop poorte wys dat die stad veilig is, en dat almal welkom is (Op. 21:25).  Dié wat egter wil inkom, moet heilig en regverdig wees (v.2, Op. 21:27, 22:3, 14-15).

 

Deur wedergeboorte, geloof en bekering kan jy deur die stad se poorte ingaan (v.2, Joh. 3:5, Ef. 2:6).  Kom in, kom in!  Hoe wonderlik sal dit nie wees om in ‘n plek te lewe waar skelms nie in die nag in jou huis inkom nie?  Dink gereeld aan die hemelse stad; vul jou gedagtes met God en sy verlossing; vertrou altyd op die Here; bedink die dinge daarbo.  So sal die vrede van God jou hart en lewe bewaar (v.3, Fil. 4:6-8, Kol. 3:1-2).  Dit sal nie ‘n vals vrede wees waarin jy maak of alles reg is nie, maar ‘n ware vrede te midde van die storm.

 

As jy aanhoudend op die Here vertrou, sal niks en niemand hierdie vrede kan wegvat nie (v.4).  Die Een op wie jy vertrou is immers die ewige, onveranderlike, onbeweeglike Rots (v.4, Mal. 3:6, Heb. 13:8).  As jy op Hom vertrou sal jy meer standvastig as die groot piramide van Giza wees, en sal die aardbewings van Satan, God se oordeel en hierdie wêreld jou nie skud nie (v.4, 44:8, Deut. 32:4, 15, 18, 30-31, 1Sam. 2:2, Ps. 18:32, 62:3, 7-8, Matt. 7:24-25, 1Kor. 10:4).

 

As jy nié op God vertrou nie maar hoogmoedig is, sal Hy jou afbring aarde toe, sodat jy en die dinge waarop jy vertrou in die stof lê (v.5, 25:12).  Jou drome, planne, toekoms, rykdom en lewe sal in skerwe lê (v.5).  Op die einde sal die armes wat onder jou was, jou onder hulle voete vertrap (v.6, 25:4, 10, 12, Rom. 16:20, Op. 3:9).

 

Dit is nie genoeg om te jy vertrou op die Here nie.  Wys jou gebedslewe en die manier waarop jy jou lewe volgens die Bybel inrig, dat jy op die Here vertrou en nie op jouself nie?  Is die Woord en gebed sentraal wanneer jy besluite neem, jou kinders opvoed en vir die toekoms beplan?  Hoeveel keer moet jy nóg misluk voordat jy na die Here toe draai en op Hom vertrou?

 

Die lang nag (v.7-18)

Ek ken ‘n man wat nie in die aande kan slaap nie.  Dit is vir hom baie erg.  Dit gebeur nie net nou en dan nie, maar die meeste van die aande uit ‘n week.  Daar is blykbaar niks wat dit veroorsaak nie; hy kan net nie slaap nie.  Almal van ons weet hoe lank twee of drie ure kan voel as jy in die nag wakker lê.

 

Hoe lank voel ‘die nag’ van ‘n gelowige se lewe in hierdie bose wêreld dan nie?  Hoe lank het Israel nie vir die Messias se eerste koms gewag nie?  En hoe lank wag ons nie al vir sy tweede koms nie?  Dit is waaroor v.7-18 gaan.

 

God sal die regverdige volk van v.2 se pad gelyk maak; Hy sal die hindernisse wegvat en die slaggate opvul (v.7, Ps. 143:10, Spr. 3:6).  Hy sal sy volk se vyande uit die pad verwyder (v.8, 35:9).  Hy sal na sy wagtende volk toe kom (v.8, 25:9).  Hulle het sy Naam en Gedenknaam – alles wat Hy is en vir sy volk gedoen het (Eks. 3:14-15) – in die diepte van hulle siele begeer, soos wat ‘n mens of dier in die woestyn na koue water smag (v.8, Ps. 42:2-3, 63:2, Joh. 7:37-38).

 

Laat ons ook so na die Here dors, omdat net Hý ons kan versadig.  Om Hom só te begeer nie, moet jy die Woord biddend oordink, totdat jou hart met liefde vir Hom brand en jy honger is vir Jesus.  Dink in die nagmaal aan sy Gedenknaam; aan wie Hy is en aan wat Hy vir jou gedoen het (v.8, 1Kor. 11:24-25).

 

Wees ook soos Jesaja wat snags op sy bed die Here in gebed gesoek het, en oor Hom gepeins het (v.9, Ps. 63:7, 119:55, 62, 131, 147-148, 149:5).  Hy het vir die Here gevra om sy rebelse volk te oordeel, sodat hulle hulle kan bekeer (v.9, 16).  Wanneer alles goed gaan, dink goddelose mense dat die Here nie ‘n probleem met hulle lewens het nie (v.10, 5:12).

 

Dus is voorspoed nie noodwendig ‘n goeie ding, of teëspoed ‘n slegte ding nie.  In baie gevalle is teëspoed beter as voorspoed, omdat voorspoed ons makliker van die Here af weghou, terwyl teëspoed ons op ons knieë dwing (v.10, Deut. 28:47, 2Kron. 33:12, Dan. 4:28-37, Mark. 10:21-23).

 

John Newton het byna sy lewe in ‘n storm verloor voor hy na Jesus toe gedraai het.  Ander moet eers deur ‘n egskeiding gaan of ‘n kind verloor, voordat hulle tot bekering kom, hulle korrupsie los, en God se majesteit in die evangelie sien (v.10, 2Kor. 4:6).  God moet ‘n mens aan die einde van homself bring, sodat hy geen hoop in homself het nie.  Eers dán kan hy sien dat die Here sy enigste hoop is, en kan hy soos ‘n drenkeling na die reddingsboei van Jesus se kruisdood en opstanding gryp.

 

‘n Tragedie op sy eie is egter nie genoeg om iemand na die Here toe te draai nie.  Daarvoor het ons God se genade nodig.  Die Heilige Gees moet eers die persoon se hart oopmaak (Hand. 16:14).  As dit nie gebeur nie, sal die tragedie niks doen nie.  Die persoon sal blind bly en sy hart verhard (v.11, Op. 16:9-11).  Hy sien nie God se hand in sy moeilike omstandighede nie (v.11).  Hy ignoreer die brande in Knysna, die droogte in die Kaap, die siklone in Amerika, en sê dat dit toevallig is.

 

Hy sien ook nie dat die Here besig is om sy volk te verlos nie (v.11).  Hy besef nie dat God sy redding begeer, en dat hy deel van hierdie volk kan wees as hy hom bekeer nie.  Omdat hy op homself staatmaak, sal hy skaamkry wanneer die Here met vurige ywer kom om sy kinders te red (v.11).  Hy sal nie God se lieflike teenwoordigheid geniet nie, maar deur die vuur van sy oordeel verteer word (v.11, 2Tess. 1:7-9, Heb. 12:29, Op. 20:9).

 

Deur die evangelie van Jesus sal God vrede oor sy volk beskik (v.12, 9:5-6, Rom. 5:1, Kol. 1:20).  Ons het niks gedoen om hierdie vrede te verdien nie; alles kom van Hóm af (v.12).  Jou en my verlossing is monergisties (God alleen red) en nie sinergisties nie (God en die mens werk saam in verlossing).  Kan jy eerlik sê dat jy ‘n aandeel in jou redding gehad het?  Sal jy dit waag om soos Charles Finney te sê dat die sondaar soewerein is in verlossing, en nie die Here nie?  Diep in jou hart weet jy dat selfs jou geloof en bekering van God af kom (Hand. 5:31, 11:18, Ef. 2:8-9, Fil. 1:29).  Die feit dat jy lofliedere vir Jesus sing en nie vir jouself nie, asook die feit dat jy vir God vra om jou ongeredde geliefdes se oë oop te maak, bevestig dit.

 

Deur die geskiedenis het ander heersers oor God se volk regeer:  die Farao’s van Egipte, die Filistyne in die dae van die Rigters, en die Babiloniërs (v.13).  Maar deur al hierdie dinge was die Here altyd die ware koning wat sy volk verlos het (v.13).  God het die tiranne wat sy volk onderdruk het, doodgemaak (v.14, Eks. 2:23, 14:23-30).  Hulle het as skimme na die onderwêreld toe neergedaal (v.14, 14:9).  Hulle sou nie weer opkom om oor sy volk te heers, of eers onthou word nie (v.14).  God alleen sal onthou word (v.13).

 

Soos God Israel se harde meesters geoordeel het, het Hy ook die harde meesters van sonde en die duiwel deur sy kruisdood geoordeel; hulle sal nie weer opkom om jou te onderdruk nie (v.13-14).  Hulle het geen mag oor jou nie, omdat Jesus jou koning is (v.13-14, Rom. 6:14, 1Joh. 5:18).  As hulle dan kom en vir jou sê dat jy vir hulle moet luister, kan jy vir hulle sê:  ‘Talk to my Lawyer’ (1Joh. 2:1).  Jesus het immers die prys vir jou sonde betaal en jou vrygemaak.  As hulle iets te sê het, kan hulle dit vir Hom sê (Rom. 8:33).

 

Alhoewel Israel se vyande haar uitgedun het (1:9), sal God haar in die toekoms vermeerder (v.15).  Dit sal nie nét deur biologiese voortplanting plaasvind nie, maar deur bekerings.  Dit het begin toe al die nasies van die aarde in Abraham se nageslag, nl. Christus, geseën is en deel van God se volk geword het (Gen. 12:3, Gal. 3:7, 16, 29, Ef. 2:11-22).

 

Dit sal ook in die toekoms gebeur, wanneer God die Jode en baie heidene red.  Paulus sê in Rom. 11:12, 15, 25-26 dat Israel in die toekoms gered sal word, en dat dit soos ‘n vuurhoutjie op petrol onder die heidene sal wees.  Dit sal m.a.w. ‘n wêreldwye herlewing meebring.  Die kerk sal grootliks vermeerder (v.15, Matt. 13:31-32).  God se tent sal te klein wees vir almal om in te pas (Jes. 54:1-3).  Israel se grense sal verbreed moet word om almal te akkommodeer (v.15).  In al hierdie dinge sal die Here verheerlik word (v.15).

 

Persoonlik dink ek dat ons te min vir die Jode se redding bid.  As hulle redding seën vir die wêreld sal beteken, verbaas dit my dat ons so min vir hulle bid.  Ek het tot verlede jaar nooit vir hulle gebid nie.  Wanneer laas het jý vir hulle gebid?  Paulus sê:  “Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.” (Rom. 10:1).

 

As jy nog nie vir hulle bid nie, wil ek jou aanspoor om te begin.  ‘n Vriend van my het die afgelope week ‘n vir my aanhaling van D.A. Robertson gestuur.  Volgens Robertson het die Skotse prediker, Robert Murray McCheyne, elke dag ‘n uur lank vir die Jode gebid.[1]  ‘n Puritein genaamd Robert Leighton het gesê:  ‘They forget a main point of the Church’s glory, who pray not daily for the conversion of the Jews.’[2]

 

Die vermeerdering van God se volk in v.15, was ‘n antwoord op die gebed in v.16.  God het hulle gedissiplineer; in hulle benoudheid het hulle Hom gesoek en ‘n gebed gefluister (v.16, vgl. Eks. 2:23, Rigt. 3:15, 4:3, 6:7, 10:10, Ps. 137:1, Dan. 9:1-3).  By tye voel jy so moedeloos, dat jy skaars ‘n gebed kan fluister.  Die Here hoor jou en sal jou help.  Het Hy nie vir Jona gehelp toe hy nie eers kon fluister nie, omdat hy onder die golwe was (Jona 2:5, 7)?  En sal Hy nie hoor as jy sug, omdat jy nie weet hoe of wat jy moet bid nie (Rom. 8:26-27)?

 

A.g.v. God se tugtiging, was Israel soos ‘n vrou wat geboorte gee:  die krampe was erg en die trane intens (v.16-17).  Maar anders as met ‘n ma wat geboorte gee, het Israel se pyn nie in vreugde verander nie.  Dit was ‘n miskraam; hulle het wind gebaar (v.18).  Wat beteken dit?  Israel was onvrugbaar.  In hulle eie krag kon hulle niks doen om te vermeerder nie.  Toe hulle egter in gebed na die Here kyk, het Hy hulle vermeerder (v.15-16, Eseg. 36:37).

 

Is dit nie ook die rede hoekom baie gemeentes nie groei nie (insluitend ons eie)?  Ons hou vergaderings en beraam planne om vrugbaar te wees.  Maar as jy die bidure bywoon, hoef jy nie te wonder hoekom Christene ‘musical churches’ speel, terwyl daar bitter min bekerings is nie.  Dit help nie om planne vir groei te maak, terwyl daar vyf of tien mense by die biduur is nie.  En as ons by die biduur is, moet ons nie net vir tannie Kotie in die hospitaal bid nie (nie dat dit verkeerd is nie), maar ook dat die Here sy kerk sal bou, dat mense tot bekering sal kom, en dat die Here ‘n ware herlewing stuur.

 

Wil jy dit nie asb. oorweeg om by ‘n gemeente biduur in te skakel nie?  Die vroeë kerk het groei gesien, omdat hulle gebid het (Hand. 1:14, 2:42, 6:4, 4:31, 13:2-3).  Ek is oortuig dat wyle dr. Martin Holdt groei in sy bediening gesien het, omdat hy ‘n man van gebed was, en omdat sy gemeente vir hom gebid het.  Soos die apostel Paulus, wil ek vra dat jy hiervoor sal bid:  “Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle” (2Tess. 3:1).

 

Die môredou (v.19-21)

‘n Eks-Baptiste ds. het gesê dat die Ou Testament nooit van die opstanding praat nie.  Dit laat my aan die Sadduseërs dink wat dieselfde gesê het.  Volgens Jesus het hulle gedwaal, “omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (Matt. 22:29).

 

Daar is ‘n paar tekste in die Ou Testament wat van die opstanding praat.  Jes. 26:19 is een van hulle.  Toe God se volk hopeloos was (v.16-18), het Hy ingegryp (v.19).  Toe Hy hulle uit Babilon teruggebring het, was dit soos ‘n opstanding uit die dood (Eseg. 37:12).  Toe Jesus aarde toe gekom het, het Hy opgestaan en ons in Hom (Joh. 5:24-25, Ef. 2:5-6).  Wanneer Israel in die toekoms tot bekering kom, sal die herlewing wat daaruit ontstaan soos ‘n opstanding wees (Rom. 11:15).  Wanneer Jesus uiteindelik na die aarde toe terugkeer, sal ons liggame uit die grafte uit opstaan (v.19, Job 19:25-27, Dan. 12:2, Joh. 5:28-29, 1Kor. 15).

 

Wanneer die Here sy kinders só opwek, sal ons van blydskap sing en Hom prys (v.19).  Dit is tog Hý wat ons laat lewe, net soos wat dou en lig die woestynplante laat lewe (v.19, Hos. 14:6).  Hý het die aarde beveel om aan die dooies se liggame geboorte te gee (v.19).  Die kraampyne van v.17-18 was nie verniet nie, maar dit sal uitloop op die verlossing van ons liggame (v.19, Rom. 8:22-23).

 

God se vyande is in die stof en die hel gewerp (v.5, 14), maar sy kinders sal uit die stof uit opstaan (v.19).  Wanneer Jesus terugkeer om ons só te verlos (v.19), sal Hy ook sy vyande oordeel (v.20-21).  Hy sal van sy troon af opstaan en uit die hemel uit neerdaal om met absolute verwoesting die goddelose te oordeel (v.21).

 

Niemand sal wegkom nie (v.21).  Die mense wat vir jare hulle sonde weggesteek het, sal uitgevang word (v.21).  Die aarde sal hulle weggee, soos wat ‘n klein seuntjie sy ouers se donker geheime verklap (v.21, Gen. 4:10).  Die aarde sal die vermoordes se lyke uitwys en die moordenaars aankondig, soos wat luminol bloed op die moordtoneel blou laat skyn (v.19, 21).  As die Here klaar die wêreld geoordeel het, sal daar geen ongeregtigheid oorbly nie.

 

Die moordenaar sal stomgeslaan wees, want ‘hoe die Here dít geweet?’  Dit geld vir elke sonde.  Daarom moet jy nie vir die duiwel luister as hy vir jou sê dat jy daarmee kan wegkom nie.  Jou sonde sal jou uitvind, en wat jy in die geheim gesê het, sal van die dakke af verkondig word (Num. 32:23, Luk. 12:3).

 

Ek weet van iemand wat onlangs haar werk verloor het, omdat sy in die geheim iets gesê het wat ‘per ongeluk’ openbaar geraak het.  Maar selfs as daar nie ‘n enkele persoon is wat van jou sonde weet nie, kan jy maar weet dat Jesus dit op die laaste dag gaan uitbring – Hy sien en weet alles (v.21, Joh. 16:30).

 

Jou enigste hoop is om jou te bekeer en met ‘n berouvolle hart na Jesus toe te kom.  As jy in Hom glo, kan jou gewete rus en hoef dit jou nie meer te pla nie.  Hy het die skuld vir sondaars op Homself geneem aan die kruis, en dus hoef jy nie meer skuldig te voel nie.  Omdat Jesus ons straf gedra het, sal God jou nie straf nie (Rom. 8:1).

 

Jy sal soos Israel in Egipte wees.  Toe God die Egiptenare se eersgeborenes getref het, het Israel agter bloedbesmeerde deurkosyne geskuil (Eks. 12).  Net so moet God se kinders hulle in hulle kamers toesluit, en bid dat die Here hulle genadig sal wees (v.20, Matt. 6:6).  Wanneer die storm van God se oordeel verby is, sal die son van sy genade vir ewig oor ons skyn (v.20).  Die storm sal ons nie tref nie, omdat ons in die ark van Jesus se Persoon, kruisdood en opstanding skuil.  Omdat ons huise op die Rots gebou is, sal dit nie inmekaar tuimel wanneer die storm van God se oordeel oor die aarde losbreek nie (v.4, 20, Matt. 7:24-25).

 

As die storm verby is, sal alles waarvoor jy ooit gehoop het ‘n werklikheid word.  Dit sal soos Petro se troudag wees.  Sewe maande voor die tyd het sy al in haar kop gesien hoe mooi alles gaan lyk, en hoe wonderlik die vakansie daarná gaan wees.  Toe die troudag en wittebrood uiteindelik aanbreek, het dit haar wildste drome oortref.  Net so sal die blydskap geweldig wees wanneer die kraampyne en hoop van verlossing ten volle vervul word.  Dit sal soos ‘n ruspe wees wat in ‘n skoenlapper verander.

 

[1] Timothy Larsen, Ed., Biographical Dictionary of Evangelicals, Inter-Varsity Press, Leceister: England, p.382

[2] Iain Murray, The Puritan Hope, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1971, 1998, p.75

Advertisements

Die winter van God se oordeel

Biting winter

John Bunyan het gesê dat daar sekere plekke in die wêreld is waar die bome nie vrugte dra nie, omdat daar geen winter is nie.  Net so sien ons in Jes.17-19 hoe God die winter van sy oordeel oor die nasies gestuur het om hulle voor te berei vir die lente van sy seëninge.

 

Sirië (hfst.17)

‘n Oom in ons gemeente het my vertel hoe die bokke in Zimbabwe tussen die bouvallige huise rondloop.  Sirië se hoofstad Damaskus was so:  die Here het dit in bourommel verander (17:1).  Deur die koning van Assirië het Hy die land tot by Aroër in die suide getref het, sodat dit verlate was en mense se kleinvee rustig daar gewei het (17:2).

 

Efraim of Israel het voorheen op Damaskus gesteun om haar teen Assirië te help (Jes.7).  Toe Assirië haar egter verower het (2 Kon.16:9), kon Israel nie meer by haar geskuil het nie (17:3).  En tog was dit nie klaarpraat met haar nie:  in die toekoms sou sy so heerlik soos Israel gewees het (17:3).

 

Maar voordat die Here vir Israel verheerlik het, het Hy haar verneder en sy voorspoedige volk uitgeteer (17:4, 1 Sm.4:21).  Israel sou gewees het soos ‘n kaalgestroopte koringland in die Refaim vallei suid van Jerusalem, soos enkele olywe op ‘n olyfboom nadat dit goed geskud is (17:5-6).

 

God se tugtiging het daartoe gelei dat hulle nie meer op hulle handgemaakte gode vertrou het nie, maar op die Heilige van Israel (17:7-8, Mg.5:12-13).  In die verlede het hulle die Rots van hulle verlossing en beskutting vergeet om op die ‘ingevoerde stiggies’ van Damaskus te vertrou (17:10).

 

Die vestings van Israel se stede het hulle nie beskerm nie; dit het leeg geraak soos toe Josua die Kanaäniete verdryf het (17:9).  Die ‘ingevoerde wingerd’ van Damaskus het hulle ook nie gehelp nie; dit het vinniger gevrek as wat dit opgekom het, sodat Israel pyn en smart beleef het (17:11).

 

En tog het die Here haar teen die dreunende golwe van Assirië en die nasies beskerm (17:12-13).  Toe Hy hulle gestraf het, het hulle soos die Rooi See gevlug, en was hulle soos kaf en stof wat deur ‘n stormwind weggewaai word (17:13, Ps.1:4, 83:14).  Hy het dié wat sy volk geroof en geplunder het in die nag getref, sodat hulle nie die son sien opkom het nie (17:14, 37:36).

 

Vertrou op die Here as jy in die moeilikheid is.  Lê jou sorge in gebed aan sy voete neer, en vra vir ander gelowiges om saam te bid.  Ondersoek die Skrif om te sien wat dit oor jou situasie sê.  Vra ander gelowiges vir hulp as jy nie weet waar om te begin nie.

 

Moenie op jouself, jou vermoeëns, jou salaris, die dr., die ds., of iemand anders vertrou om jou lewe te verander nie.  Ek weet dat die Here soms middele gebruik om ons te help, maar jy kan nie jou absolute vertroue daarin stel en van die Here vergeet nie (17:7-10).  As die Here jou nie help nie, kan niemand anders dit doen nie (Ps.127:1-2).

 

Etiopië (hfst.18)

In 715 v.C. het die Etiopiese koning Piankhi Egipte verower, en die Vyf-en-twintigste Dinastie gevestig.[1]  Kus of Etiopië van ouds het van die horing van Afrika, deur Soedan tot in Egipte gestrek.  Omdat die Nylrivier daardeur gevloei het en daar baie insekte met gonsende vlerke was, het Jesaja dit as die land van riviere en vlerkgegons beskryf (18:1-2).

 

Toe Assirië teen Juda geveg het, het Etiopië boodskappers in gevlegde en geseëlde papirus bootjies teen die Nylrivier opgestuur (18:2).  ‘Ons sal julle beskerm,’ het hulle gesê.  Jesaja het vir hulle gesê om na hulle land toe terug te keer, die land van lang mense met gladde velle (18:2).

 

Alhoewel hulle die gevreesde en magtige Etiopië was, het die Here nie hulle hulp nodig gehad nie:  Hy sou self sy volk se vyande oorwin het (18:2-6).  God se oorwinning sou so duidelik vir die nasies gewees het soos ‘n banier op ‘n berg, of soos iemand wat hard op ‘n trompet blaas (18:3).

 

God het vir Jesaja gesê:  ‘Ek sal in die hemel sit en so stil soos hitte, dou en die seisoene teen Assirië werk.’ (18:4, 37:36).  Assirië het gedink dat die tyd ryp is om Jerusalem soos druiwe af te snoei.  God het hulle egter voorgespring en Assirië se takke afgekap (18:5).  Daar was so baie lyke dat roofvoëls dit in die somer gevreet het, en wilde diere in die winter (18:6, 37:36).

 

Duidelik het die Here nie Etiopië se hulp nodig gehad nie.  Hulle het sý hulp nodig gehad.  In die toekoms sou die gevreesde Etiopiërs na die hemelse berg Sion toe gekom het om vir God geskenke te bring en Hom te aanbid (18:7).  Dit het begin toe die Etiopiër in Hd.8 tot bekering gekom het.  Deur die kerk se geskiedenis was daar ware gelowiges in Etiopië.  Vandag is daar byna 20 miljoen evangeliese Christene.  In die toekoms sal die land in sy geheel na die Here toe draai (18:7, 2:3, 11:10, Ps.68:32).

 

Dit maak my hoopvol vir Etiopië en die res van ‘donker’ Afrika.  ‘n Zulu petrol joggie het twee weke gelede vir my gevra hoekom ons nie van swart mense in die Bybel lees nie.  Ons doen!  Volgens Nm.12:1 het Moses ná Sippora met ‘n Etiopiër getrou.  ‘n Etiopiër genaamd Ebed-Meleg het vir Jeremia gehelp en ook in die God van Israel geglo (Jer.38:7-13, 39:16-18).

 

Dit is waarskynlik dat die bruid in Hooglied swart was (Hgl.1:5-6).  Simon van Cirene het van Afrika af gekom en was swart (Mk.15:21).[2]  Die Etiopiër wat in Hd.8 in Christus geglo het was swart.  So het die evangelie Afrika bereik voordat dit enige ander kontinent bereik het.  Simeon Niger wat saam met Paulus ‘n leier in Antiochië was, was swart (Hd.13:1).

 

Ja, Afrika is vasgevang in ‘n net van sonde en die gevolge daarvan:  voorvader aanbidding, toordokters, ‘prosperity’ predikers, poligamie, VIGS, korrupsie, misdaad, luiheid, werkloosheid, armoede, diktators, dwelm- en mense handel, en meer.  Maar volgens Jes.18:7 en soortgelyke tekste, sal dit in die toekoms verander.  Die meeste mense sal nie meer soos die Rastafarians glo dat Etiopië se Haile Selassie die Messias, die Leeu van Juda, of die vleesgeworde God is nie.  Hulle sal eerder soos die Etiopiër in Hd.8 bely dat Jesus die Messias is.  Ons moet die Here hiervoor prys en hard stry om die oorblyfsels van rassisme uit ons harte uit te verwyder.

 

Egipte (hfst.19)

Suid-Afrika se gemiddelde reënval is omtrent 450 mm per jaar.  Egipte se gemiddelde jaarlikse reënval is tussen 20 en 200 mm teen die kus, en 0 mm in die res van die land.  Hulle is dus heeltemal afhanklik van die Nylrivier.  Hierdie inligting sal jou help om ‘n groot gedeelte van hfst.19 te verstaan.

 

Die Here het spoedig op ‘n wolk gery om vir Egipte te oordeel (19:1, Ps.104:3).  In Eks.7-12 het Hy die gode van Egipte d.m.v. die tien plae geoordeel (Eks.12:12).  Toe Hy dus weer teen Egipte gekom het, het die mense en gode Hom gevrees (19:1, vgl. 1 Sm.5:2-4).

 

Hy het gemaak dat die Egiptenare teen mekaar baklei (19:2).  Die mense het vir hulle gode en towenaars raad gevra, maar niemand kon hulle help nie (19:3, vgl. 8:19).  Uiteindelik het die Here ‘n streng meester oor hulle geplaas, die konings van Assirië en Babilon (20:4, Jer.46:26).

 

God het ook die Nylrivier opgedroog, en so die land se water voorraad uitgeput (19:5).  Die opdroogte vertakkings en kanale, vrot riete, en walle wat deur wind erosie weggevreet is, het Egipte se landbou, visserye, klere bedryf en ekomomie op sy kop gekeer (19:6-10).  Die boere was depressief, die rykes verpletter, en dié wat vir hulle gewerk het werkloos (19:9-10).

 

Die regering was stomgeslaan; die wysste ministers se raad was dwaas (19:11).  Die land van wyse raadgewers (1 Kor.4:30) kon nie die tekens van die tye gelees het om te sien dat dit Gód was wat hulle gestraf het nie (19:12).  Die seuns van antieke konings (die prinse van die hoofstad Soan en die vorige hoofstad Memfis of Nof) het hulleself en die volk mislei (19:11, 13).

 

Met hulle slegte raad het die hoekstene of grootkoppe van Egipte die land laat slinger soos ‘n dronk man wat in sy eie uitbraaksel gly (19:13-14).  God het vir ‘n bose gees toestemming gegee om hulle so te verwar (19:14, 1 Sm.18:10, 1 Kon.22:20-23, 2 Ts.2:11).  Die leiers was die hoë palmbome en die kop, en die volk die lae riete en die stert (19:15).  Nie een van hulle kon egter iets gedoen het om die land te red nie (19:15).

 

In die toekoms sal God sy vuis oor Egipte swaai, en sal hulle soos vroue bewe (19:16).  Hulle sal bang wees vir Juda, en nie andersom nie (19:17).  Hulle sal dink dat die Here téén hulle is, terwyl hulle vrees eintlik die begin van ‘n ware verhouding met Hom is (19:17, Sp.1:7).

 

Ons moet dus nie moedeloos raak wanneer ons sien dat Egipte huidiglik deur Islam oorheers word nie.  In die eerste paar eeue n.C., het ‘n klomp van die kerk se grootste leiers van Egipte af gekom.  In die toekoms sal hulle weer na die Here toe draai.  Vyf van die land se stede – o.a. een wat sterk onder die invloed van afgodery was – sal die taal van Kanaän praat en hulle trou aan die Here sweer (19:18).

 

Uiteindelik sal dit die hele bevolking beïnvloed, en tot by die land se grense uitbrei (19:19, vgl. Gn.28:13, 18).  Mense wat in die land inkom sal weet dat Egipte nie meer afgode aanbid nie, en dat God sy Seun gestuur het om hulle van die vlees, die duiwel en die wêreld te verlos (19:20, 3).

 

God sal Homself aan die Egiptenare bekend maak, en hulle sal Hom ken en aanbid (19:21, 11:9, Heb.8:11).  As hulle sonde doen sal Hy hulle tugtig, en as hulle weer na Hom toe draai sal Hy hulle vergewe (19:22, Heb.12:5-11).  Hulle geloof sal na ander dele van die wêreld toe versprei, sodat hulle saam met die Assiriërs van Iran die ware God sal aanbid (19:23, 2:2-4).

 

Soos met Israel, sal Egipte en Iran ook die Here dien (19:24).  Israel se bekering in die toekoms sal seën vir die wêreld beteken, sodat die nasies na Christus toe draai (19:24, Gn.12:3, Jh.3:17, Rm.11:12, 15).  Israel, Egipte, Assirië, en die res van die nasies wat in Jesus glo, sal sy volk, die werk van sy hande, en sy erfdeel wees (19:25, Ef.1:18, 2:10-22, Tit.2:14, 1 Pet.2:9-10).

 

Ek wil nie die arme perd holrug ry nie, maar ek kan nie vir jou sê hoe hierdie waarheid oor die afgelope 18 maande my gebedslewe beïnvloed het nie.  Dit het my gehelp om groot gebede vir die wêreld te bid, en om nie by my eie lewe en my probleme vas te hak nie.  Dit het my gehelp om hoopvol te wees dat God dinge in Suid-Afrika kan omkeer.

 

As die Here wil, kan Hy bose stede soos Kempton Park, Tembisa, Johannesburg, Soweto, Kaapstad, en ander stede in ons land na Hom toe draai (19:18, Hd.8:8, 9:35, 13:44).  Vir Hom is dit geen moeite om ‘n hele land na Hom toe te trek nie (19:19, Ps.22:28, 86:9, Mt.19:25-26).  Net soos Hy ons in die verlede gebruik het om die res van Afrika en die wêreld met die rykdom van goud en diamante te seën, kan Hy ons gebruik om hulle met die skatte van Jesus, die Bybel en die evangelie te seën.

 

Om dan met dringendheid vir die nasies te bid, sendelinge uit te stuur, en die evangelie met ons landsgenote deel, moet hoog op die lys van ons gemeente se prioriteite wees.  Uit ervaring kan ek sê dat dit nie sonder deeglike beplanning gaan gebeur nie.  Terwyl die winter van God se oordeel in ons land en wêreld byt, moet ons konkrete stappe neem om die grond voor te berei vir die lente.  Natuurlik moet ons nie nét bid nie, maar gebed is verseker die beste plek om te begin.

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.161

[2] Moslems het Noord-Afrika ‘n paar eeue na Christus geïnfiltreer.  Moderne Libiërs kom van Arabië af, maar dié wat in Jesus se tyd gelewe het was swart.

Optimisties oor die eindtyd

Optimism

Ek het gister in ‘n artikel gelees dat ons gebede vir Suid-Afrika nie gaan help nie, omdat dinge volgens die Bybel slegter gaan word en nie beter nie. Maar is dit regtig Bybels om pessimisties te wees oor die eindtyd?

 

Wanneer ek hoofstukke soos Jes.2 lees, lyk dit vir my of ons eerder optimisties moet wees, omdat daar beter dae vir ons voorlê. Ek hoop om jou in hierdie preek daarvan te oortuig.

 

Jerusalem se voorspoed (v.1-5)

In die 1820’s en 30’s het J.N. Darby Edward Irving se siening oor die eindtyd populêr gemaak. In 1909 het C.I. Scofield dit deur sy Scofield Reference Bible in Amerika bekend gemaak.  Darby en Scofield het o.a. gesê dat die wêreld drasties gaan vererger voordat Jesus weer kom.[1]

 

Maar voor húlle, het Christene in Wallis, Engeland en Skotland geglo dat die evangelie onder al die nasies gaan versprei, en dat daar voor die wederkoms ‘n wêreldwye herlewing gaan wees. ‘The gospel shall be victorious,’ het John Owen gesê.[2]  William Carey het gesê:  ‘[Christ] must reign, till Satan has not an inch of territory.’[3]

 

En David Livingstone: ‘Christianity will triumph.’[4]  Charles Spurgeon het gesê:  ‘The Gospel must succeed; it shall succeed; it cannot be prevented from succeeding; a multitude that no man can number must be saved.’[5]  Ander teoloë en predikers soos Matthew Henry, Jonathan Edwards, George Whitefield, Robert Murray McCheyne en baie van die Puriteine het dit geglo.

 

Ek glo dit ook en dink dat Jes.2 en talle ander tekste dit bewys. Hierdie hoofstuk handel oor die Woord wat Jesaja die seun van Amos aangaande Jerusalem in Juda gesien het (v.1).  Dit sou aan die einde van die dae vervul word (v.2).  Die einde van die dae verwys na die verre toekoms (Dt.4:30, Dn.2:28), na die tyd van die nuwe verbond tussen die Messias se eerste en sy tweede koms (Hd.2:17, 1 Kor.10:11, Heb.1:1, 9:26).

 

In hiérdie tyd sou berg Sion waarop die tempel was, die hoogste en mees verhewe berg gewees het (v.2, Mg.4:1-3). Dit sou m.a.w. belangriker gewees het as die berge waarop die Israeliete hulle afgode aanbid het (1 Kon.15:35, 16:4, Ps.68:17).  Uiteindelik sou Jes.2 in die Nuwe Jerusalem vervul word (Heb.12:22, Op.21:10).

 

Die nasies sou soos ‘n rivier na die Nuwe Jerusalem toe gevloei het (v.2). Dit het by die kruis begin (Jh.3:3, 5, 12:32) en sou deur ‘n toekomstige herlewing ‘n breë rivier geword het wat sy walle oorstroom; die nasies sou in strome na die Here toe gekom het om Hom te aanbid (Ps.2:8, 72:8, 11, 86:9-10, Mal.1:11).

 

Hulle sou mekaar aangespoor het om na die huis van die God van Jakob, die Nuwe Jerusalem, toe te gaan (v.3, Ps.122:1, Sg.8:20-23). Jes.2 is in die Nuwe Testamentiese kerk, die ware tempel, vervul (Gal.4:26-27, Ef.2:19-22, Heb.10:24-25, 19-22).  Uiteindelik sou dit in die hemel en op die nuwe aarde vervul word (Lk.13:29, Op.7:9, 21:24, 26).

 

Die nasies wou na die Here toe gekom het, sodat Hy hulle uit sy Woord en wet gehoorsaamheid kon leer (v.3, Mt.28:19b, Lk.24:47). Daar sou ‘n herlewing van Bybelse prediking gewees het.

 

Die Here sou ook as Regter oor die regsake van die nasies beslis het (v.4). Die volke sou nie meer onder mekaar geveg het nie (v.4b), maar sou na die Here toe gekom het vir geregtigheid (v.4a).  Hulle sou hulle wapens in plaasimplemente verander het; daar sou nie meer oorlog gewees het nie, maar vrede en voorspoed (v.4, 9:6, 65:25, Gn.2:15, Ps.46:10, 72:3, 7, Hos.2:17, Mg.4:4, Sg.9:10, Ef.2:17, Op.20:1-3, kontr. Joël 3:10, Mt.24:7, 9).

 

Hierdie vooruitsig moes vir Israel aangespoor het om haar te bekeer en in die lig van God se waarheid te wandel (v.5, Dt.32:21, Rm.11:11, 13-14, Ps.43:3, 119:105, Ef.5:8, Jh.8:12). Dit sou immers a.g.v. Israel se bekering gewees het wat die nasies in groot getalle na die Here toe gedraai het (v.1-4, 60:3, Gn.12:3, Dt.4:6, Rm.11:12, 15, 1 Pt.2:12).

 

Dalk glo jy soos J.N. Darby dat die wêreld erger gaan word, en basseer jy dit op Mt.24 en Op.4-19. Ek het in ‘n onlangse reeks gewys dat die vg. hoofstukke na die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. verwys, en nie na die einde van die wêreld nie.  Vir meer hieroor kan jy ‘Hoe moet ons Openbaring verstaan?’ opsoek.  Kyk ook na ander preke oor Openbaring in die indeks. An Eschatology of Victory van J. Marcellus Kik sal ook baie help.

 

Buiten vir die verse wat ek reeds genoem het, wys Dn.2:35, Mt.13:31-33 dat Christus se Koninkryk die hele aarde sal vul, dat dit groter sal wees as enige ander godsdiens in die wêreld, en dat dit die hele mensdom sal beïnvloed. Om soos Darby te glo dat die wêreld erger gaan word, beteken nie jy is ongered nie.  Maar dit mag moontlik die volgende implikasies hê:

 

[1] Jy sal nie so optimisties soos die Puriteine bid dat Christus se Koninkryk sal kom nie. Jy sal vir die bekering van individue bid en werk, maar nie dat die nasies uit al vier windrigtings soos ‘n rivier na die Nuwe Jerusalem toe stroom nie (v.2).  Jou idee van sending en evangelisasie sal nie dieselfde wees as Alexander Duff s’n nie:  ‘We think not of individuals merely; we look to the masses… we direct our views not merely to the present, but to future generations.’[6]

 

[2] Jy sal nie hoop hê dat God ‘n groot werk van herlewing onder die Moslems en die res van die heidene gaan doen nie (60:6-7, vgl. Gn.25:4, 13). Wat die kerk se toekoms betref, sal jy pessimisties wees en nie optimisies nie.  Gevolglik sal jy vir ‘n herlewing in jou tyd en omgewing bid, en nie vir die hele wêreld en vir die geslagte wat kom nie (vgl. Jh.17:20).

 

[3] Jy sal dink dat die groot oes in Mt.9:37 na baie mense verwys en nie na baie bekeerlinge nie. Gevolglik sal jy nie baie bekerings verwag wanneer jy die evangelie met mense deel nie, maar ‘n handjievol.

 

[4] Jy sal dink Mt.28:19 beteken dat ons vir die nasies van Jesus moet vertel en verwag dat individue tot bekering sal kom. Jy sal miskyk dat ons die bekering en geestelike groei van hele nasies moet verwag.

 

Ek wil jou uitdaag om jou siening oor die eindtyd te herevalueer. Ek stel voor dat jy The Puritan Hope van Iain Murray koop en dit aandagtig deurlees.  As jy aan die einde daarvan nog nie oortuig is nie, sal jy ten minste iets verstaan van die hoop waartoe die Here ons geroep het (Rm.15:13, Ef.1:18).

 

Jerusalem se oordeel (v.6-22)

Aan die einde van John Bunyan se Pilgrim’s Progress het ‘n sekere mnr. Ignorance in mnr. Vain-hope se boot geklim en rustig oor die Doodsjordaan na die hemelse stad toe gevaar.  Toe hy egter aan die anderkant uitklim, was daar niemand om hom te verwelkom nie.  Tot sy ewige verbasing het twee engele sy hande en voete vasgebind, en hom in die hel gegooi.

 

Daar bestaan iets soos vals optimisme. Wanneer dit dus by die eindtyd en veral die oordeelsdag kom, moet ons seker maak dat ons nie net optimisties is nie, maar ook realisties.  In die verse wat volg sal jy verstaan ek wat bedoel.

 

Alhoewel Jerusalem se toekoms blink gelyk het (v.1-5), was die hede bleek (v.6). God het sy volk verwerp, omdat sy Hom verwerp het en agter vreemde gode aangeloop het (v.6-8).  Jerusalem was gevul met aanbidding uit die ooste en toekoms voorspellers uit die weste (v.6, 2 Kon.1:2, 16:10-11).  Israel het hande gevat met dié wat ander gode aanbid het (v.6, 2 Kon.16:7-8).

 

Hulle het hulle gode van goud en silwer gemaak (v.7). Hulle was geldgierig en materialisties (v.7, 39:2, Dt.17:17).  Hulle het in hulle strydwaens en perde geroem; die ‘stad van vrede’[7] was vol van wapens (v.7, vgl. Dt.17:16, Ps.20:7).  Maar toe hulle alles gehad het, het hulle eintlik niks gehad nie, omdat hulle van die Here af weggedraai het na ander gode toe.  Hulle het voor die werk van hulle vingers en hande gebuig (v.8).  Hoe dwaas is dit nie:  om te sê dat die beeld wat jy gemaak het jou gemaak het (sien 44:9-17)?

 

God sou sy volk vir haar afgodery verneder het; Hy sou gewys het dat die afgode haar nie teen sy oordele kon beskerm nie (v.9, 1:29-31). Omdat Israel haar nie bekeer het nie, sou die Here haar nie vergewe het nie (v.9).  En as mense probeer het om in die rotse en onder die grond vir die Here se verskriklike en glansryke majesteit weg te kruip, sou Hy hulle daar kom uithaal het (v.10).

 

Hulle sou gou agtergekom het dat hulle rykdom en hulle afgode nie so belangrik is soos wat hulle gedink het nie, en dat die Here alleen verhef moet word (v.11, 17, 7-8). Hierdie dag van afrekening was so seker soos die Here self, omdat Hy dit in sy ewige raadsplan bepaal het (v.12, Hd.17:31).

 

Op hierdie dag sou Hy alles en almal wat hoogmoedig was afgemaai het: mense wat hulleself soos groot seder- en eikebome verhef het; dié wat soos heuwels en berge, torings en mure bo ander uitgestyg het; dié wat soos die luukse skepe van Tarsis hoogmoedig was oor hulle rykdom (v.12-16).  Die Here sou gewys het dat die mens en sy gode niks is nie, en dat Hy alleen God is (v.17-18).

 

Wanneer die mense probeer het om in die gate en grotte vir die verskriklike en glansryke oordele van God weg te kruip, sou hulle met vrees en bewing besef het dat hulle afgode hulle nie kan help nie (v.19-21). Hulle sou glad nie meer waarde aan die silwer en goue gode geheg het nie, maar sou hulle as iets onrein vir die onrein molle en vlêrmuise in die gate en grotte gegooi het (v.19-21, 30:22, 31:7, Lv.11:19, 29).

 

Omdat die Here so verskriklik was moes Israel Hóm gevrees het, en nie die opinie van die meerderheid nie (v.22, 51:12, Sp.29:25).  Wat is die mens buitendien as die lewensasem in sy neus soos mis voor die son verdwyn (v.22, 10-21, Gn.2:7, Ps.8:5, 144:3-4, 146:3-4)?

 

Om dan op die oordeelsdag op jou rykdom, jouself of iemand anders te vertrou, is niks anders as ‘n vals optimisme nie. Op daardie dag sal dit nie help dat jou oom ‘n predikant was of dat jy ‘n ouderling, diaken of Sondagskoolonderwyser was nie.  Dit sal nie help dat jou ouma ‘n opregte en toegewyde Christen was, of dat jy baie ryk was nie.  Dit sal nie help dat jy opreg was in jou vals godsdiens van redding deur goeie werke nie.

 

Al wie jou op daardie dag kan help is Jesus Christus. Maar jy kan nie met jou sonde aanhou en verwag dat Hy jou op die oordeelsdag moet help nie.  Jy moet nóú al jou sonde los en glo dat Hy bereid en bekwaam is om jou te vergewe en van God se oordeel te red.  Jy moet vandag in geloof en gebed na Hom toe kom en vertrou dat die Vader sy kruisdood in jou plek sal aanvaar.

 

Solank as wat jy dink dat jy, jou geld, die godsdiens van jou keuse of enigiemand anders jou kan help om hemel toe te gaan, sal jy nie na die Here toe kom nie (v.6-8). En as dít jou gesindheid is, sal Hy jou ook nie vergewe nie (v.9).  Hy haat die hoogmoed wat maak dat jy jouself, jou rykdom, jou selfregverdige godsdiens en ander mense bo Hom verhef.

 

Hy weet dat dit eintlik ‘n poging is om Hom van die troon af te kry, sodat jy sy plek as Koning van die heelal kan inneem (14:14, Gn.3:5). Dit doen ons van geboorte af.  Ons gooi ons speelgoed uit die kot uit as ons nie kry wat ons wil hê nie.  Ons veg in ons huwelike en gesinne, omdat ons wil hê hulle moet weet die lewe gaan oor ons.  Ons verloor ons humeur as ‘n ander motoris gedurf het om voor die ‘here van hemel en aarde’ in te ry.

 

Ons hou daarvan om onsself in die spieël en op foto’s te sien, en verskoon onsself deur te sê dat ons ‘n goeie selfbeeld wil hê. Ons dagdroom oor hoe ons populêr is en mense van ons hou.  Ons raak kwaad wanneer iemand ons teëgaan of kritiseer, en wen dan later die argument in ons gedagtes.  Ons is mal daaroor om op Facebook te kyk hoeveel mense van ons selfie gehou het.

 

As jy hoogmoedig is sal die Here jou aktief weerstaan (vra my, ek weet): “God weerstaan die hoogmoediges” (Jk.4:6).  Hoogmoedige mense kan nie na God toe kom nie – hulle sal ook nie wil nie.  Jesus het gesê:  “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën… As iemand na My toe kom en hy haat nie…sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” (Lk.9:23, 14:26).

 

Eers as jy op hierdie manier na die Here toe gekom het, kan jy optimisties wees oor die eindtyd en veral die oordeelsdag. Vir jou sal die oordeelsdag nie ‘n hofsaak wees om te vrees nie, maar ‘n prysuitdeling waarna jy kan uitsien.

 

Kortom kan ons sê dat jy optimisties oor die eindtyd sal wees. Kan dit anders wees as jy saam met Salomo en Isaac Watts glo dat ganse nasies tot bekering sal kom en voor Jesus Christus sal buig?

 

Jesus shall reign where’er the sun

Does its succesive journeys run,

His Kingdom spread from shore to shore

Till moons shall wax and wane no more

From north to south the princes meet

To pay their homage at his feet,

While western empires own their Lord

And savage tribes attend his Word

 

–Isaac Watts–

Berym uit Psalm 72

 

[1] Iain Murray, The Puritan Hope, pp.185-206

[2] Ibid., p.xii

[3] Ibid., p.141

[4] Ibid., p.184

[5] Ibid., p.238. In die fyn besonderhede van sy eindtydsiening, het Spurgeon nie met sy voorgangers saamgestem nie.  Hy was nie ‘n postmillennialis soos hulle nie, maar ‘n premillennialis.

[6] Ibid., p.181

[7] Jerusalem beteken ‘stad van vrede’.

‘n Gebed vir geregtigheid

Dallas shooting

Suid-Afrikaners is moeg vir die gemors in ons land. Oor die afgelope twee jaar het ek keer op keer gehoor hoe mense sê:  ‘Dit help nie eers jy gaan na die polisie toe nie, want hulle doen niks aan die saak nie.’  Ons weet dat baie polisiemanne korrup is.  Daar is selfs skelms wat in polisie uniforms rondloop en mense beroof of selfs doodmaak.  Wat moet ons doen?  In Lk.18:1-8 gee Jesus vir ons die oplossing.

 

Die gelykenis (v.1-5)

Soos wat jy weet het prokureurs ‘n reputasie. In ‘n preek van John MacArthur vertel hy van ‘n prokureur in hulle gemeente wat ‘n kollega na ‘n erediens toe genooi het.  ‘Wat gaan jy kerk?’ het die kollega gevra.  ‘Grace Community Church,’ het die prokureur gesê.  ‘Wat!  Ek sal nooit na julle kerk toe kom nie.  Die skelmste prokureur in Los Angeles gaan soontoe,’ het sy kollega vir hom gesê.

 

Die prokureur het die storie vir MacArthur vertel. Toe MacArthur daardie Sondag in die kansel staan, het hy die storie vir die gemeente vertel en gesê:  ‘Ek weet nie watse een van julle prokureurs dit is nie, maar ek wens jy wil jou lewe regkry.’  MacArthur het grappenderwys gesê dat 26 prokureurs hulle daardie dag bekeer het.  Net soos die skelm prokureur na wie hý verwys het, was daar in Jesus se storie ‘n onregverdige en korrupte regter.

 

In die vorige gedeelte het Jesus van Homself as die Koninkryk van God gepraat wat in die volk se midde was (17:20-21). Omdat hulle die Messias nie erken het nie, sou hulle later begeer het om Hom te sien (17:22).  Hulle sóú Hom gesien het… in sy oordeel (17:24).  Hy moes eers gely het en deur hulle verwerp word (17:25).  Daarna sou Hy teen hulle gekom het, soos wat Hy in Lot se tyd teen Sodom gekom het, en teen die wêreld in die tyd van Noag (17:26-30).

 

Jesus het nou ‘n gelykenis vertel, omdat Hy vir sy dissipels wou leer dat hulle altyd moes bid en nie moed verloor nie (v.1). Dit was veral in die vorige konteks van verdrukking en oordeel wat hulle in gebed moes volhard (21:36, Rm.12:12).  Tog moet ons ook Jesus se lering in die algemeen toepas, en selfs in tye van voorspoed volhard (11:8-9, Gn.32:26, Hd.1:14, 2:42, 6:4, Ef.6:18, Kol.4:2, 12, 1 Ts.5:17, Heb.5:7).

 

Jesus het dit soos volg geïllustreer. In ‘n sekere stad was daar ‘n regter wat nie die Here gevrees het nie, en ook nie respek gehad het vir sy medemens nie (v.2).  Dit is veilig om te sê dat hy, soos die regters en prokureurs in Suid-Afrika, skelm en korrup was (Eks.18:21, 2 Kron.19:7, Ps.82).  Hy het seker die goddelose voorgetrek, terwyl hy weduwees en weeskinders onderdruk het (Eks.22:22-24, Dt.10:18, 24:17, Ps.68:6).  Dit het hom nie gepla om vir ‘n paar honderd shekels die reg te verdraai nie.  Hy het die regverdiges toegesluit en die goddelose vrygelaat (Sp.17:15).  Sy eie sak was vir hom die belangrikste.

 

Daar was ‘n weduwee in hierdie stad (v.3). Ons moet haar nie vergelyk met ‘n weduwee in 2016 wat by een of ander Medi-Clinic werk en byna R10 000 per maand verdien nie.  Soos meeste weduwees in die Bybel se tyd was sy sonder ‘n inkomste.  Sy was ‘down & out’.  Boonop het iemand haar skade aangedoen.  Sy het aanhoudend na die plaaslike regter toe gegaan en gevra vir geregtigheid (v.3).  Sy het geen ander heenkome gehad nie, niemand wat haar saak kon beveg nie.  In hedendaagse terme kan ons sê dat sy nie ‘n prokureur kon bekostig nie.

 

Vir ‘n ruk lank het die regter geweier om haar te help (v.4). Miskien het hy gehoop dat sy geld geërf het, en dat sy daaruit vir hom ‘n omkoopgeskenkie kon gee.  Maar later kon hy dit nie meer hou nie, en het hy vir homself gesê:

 

‘Ek vrees nie die Here nie en het geen begeerte om sy wette te gehoorsaam nie. Ek het ook nie respek vir mense nie.  Ek gee nie om dat onreg seëvier nie; solank ek net my geld kry.  As die bedrag reg is, kan ek iemand stuur om die getuies ‘uit te haal’ en seker maak dat die bewyse wegraak.  Maar hierdie vrou het my gewen.  Sy is ‘n pyn in die nek, en is soos ‘n bull terrier wat net nie wil los nie.  Sy is elke dag hier.  Ek is siek en sat vir haar gekerm.  As ek haar van my rug wil afkry, moet ek vir haar geregtigheid gee.  Daar is nie ‘n ander manier om van haar ontslae te raak nie.  As ek dit nié doen nie, sal sy nie ophou totdat sy my teen die grond het nie.  Sy sal my mal maak.  Ek beter vir haar geregtigheid gee’ (v.4-5).

 

Die les (v.6-8)

Jy het seker gesien wat verlede week in Dallas in Amerika gebeur het? Omtrent ‘n halfdosyn polisie beamptes is doodgeskiet, en nóg soveel is gewond.  En dit lyk of hierdie tendens besig is om toe te neem.  Die klag is dat die Amerikaanse polisie ongewapende swart mense doodskiet.

 

In Suid-Afrika word die media verbied om die waarheid oor dit wat in ons land aangaan, na die buiteland toe te versprei. Ongeregtigheid kraai koning.  Ons weet nie hoe lank Christene in die weste nog vry sal wees nie.  Om in ons land na die die polisie en howe toe te hardloop help nie.  Sp.29:26 sê:  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die Here.”

 

Net soos wat dit nie gehelp het om by Farao te kla nie (Eks.5:15), help dit nie om na ‘n beter politieke party te kyk vir die oplossing nie. Ons moet tot die Here roep en bid dat Hy sal ingryp.  Ons moet vir die regering bid, sodat ons ‘n stil en rustige lewe kan lei (1 Tm.2:1-2).  Maar ons moet ook bid dat die Here se Koninkryk sal kom (Mt.6:10).  En ons moenie ophou om te bid totdat dit gebeur het nie.  Ek glo dat dít o.a. die les van hierdie gelykenis is (v.6-8).

 

Jesus het vir sy dissipels gesê om op te let hoe ‘n onregverdige regter deur die weduwee se volharding oorwin is.  Hoeveel te meer sou ‘n regverdige Regter nie geregtigheid vir sy kinders gegee het nie (v.6-7)?  Dit was nie nodig om die Here se arm te draai nie.  Hy sou nie moeg en moedeloos geword het nie.  God is nie soos ‘n ma wat vir haar kinders lekkers gee, om hulle onder haar voete uit te kry nie:  Hy antwoord nie ons gebede, omdat Hy van ons ontslae wil raak nie (v.4-5).  Dit is met goeie en suiwer motiewe wat die Here sy kinders help.  Hy doen dit regtig omdat Hy hulle liefhet en vir hulle omgee (v.7).

 

Hy het ons uitverkies en liefgehad voordat Hy die wêreld gemaak het (Jer.31:3, Ef.1:4-5). En as Hy ons só liefhet, sal Hy nie ook hoor as ons tot Hom bid nie (Rm.8:32)?  Sal Hy nie vir sy kinders opstaan wanneer hulle teen onregtigheid bid nie (v.7)?  Die feit dat hulle uitroep, wys dat hulle desperaat is (v.7).  Die feit dat hulle tot die Here roep, wys dat daar geen ander hulp is nie (v.7).  Die feit dat hulle dag en nag uitroep, wys dat hulle dag en nag verdruk word (v.7).  Die feit dat hulle in die nag bid, wys dat die probleem hulle uit die slaap uit hou (v.7).  Hulle bid inderdaad sonder ophou soos wat v.1 sê.

 

Let op dat hulle nie die gereg in eie hande neem nie – hulle vertrou die Here.  Hý sal hulle vyande oordeel (Gn.18:25, Ps.82:8).  Hý sal die Jode oordeel wat sy kinders vervolg en doodmaak (1 Ts.2:14-16).  Hý sal die Romeine se weermag in 70 n.C. stuur om Jerusalem en die tempel te verwoes.  Hy sou dit binne 40 jaar ná sy lering in Lk.18:1-8 gedoen het – ‘spoedig’ soos Hy in v.8 sê.  Die bloed van die martelare sou vergeld word (Op.6:10-11, 2 Ts.1:6-10).  Die smeekgebede van God se kinders sou verander het in lofprysing, omdat Hy geregtigheid sou bring (Op.16:5-7, 18:20, 19:1-3).

 

Wanneer dit voel of die Here lank vat, is dit net om die uitverkorenes wat nog nie gered is nie in te bring (v.7, 2 Pt.3:9). Soos met Paulus, mag dit wees dat die Here party van die vervolgers red.  Wanneer Hy al sy skape ingebring het, sal Hy kom om sy vyande te oordeel.  Hy ken die diepste geheime van elke mens se hart en lewe, en kan daarom regverdig oordeel (Rm.2:16).  Hy sal seker maak dat reg en geregtigheid geskied (v.8).  Hy sou nie net die Jode en die Romeine nie, maar ook die Moslems, Nazi’s, kommuniste, en elke ander vyand van die evangelie oordeel.

 

Maar hoeveel getroue en biddende mense sal daar op die aarde wees wanneer Jesus kom om sy vyande te oordeel (v.8)? Sal dit wees soos in die dae van Noag?  Of soos Sodom toe God vir Lot en sy gesin gered het (17:26-32)?  Sou die gelowiges in gebed volhard het, totdat Jesus gekom het om die Jode te oordeel?  Jesus het gesê dat die toenemende goddeloosheid tot gevolg sal hê dat die liefde van baie verkoel (Mt.24:12).  Sal ons in gebed volhard totdat die Here weer kom?  Dit lyk vir my of die volharding waarvan Jesus in Mt.24:13 praat o.a. gebeur deurdat ons in gebed volhard (v.8b).  Ook uit Jud.20-21 lyk dit of die Here ons deur gebed tot die einde toe sal bewaar.

 

Ons moet aanhou om vir geregtigheid te bid en nie moed verloor nie (v.1, 7). Hoeveel Christene ken jy wat volgens 1 Tm.2:1-2 vir ons land bid?  Alhoewel ek dit doen, moet ek bieg dat ek dit nie genoeg doen nie.  Wanneer laas het jy vir ‘n ware herlewing gebid?  Wanneer laas het ons bidure hiervoor gehad?  Hoeveel van die mense in ons gemeente bid enigsins saam met ander gelowiges?  Lees gerus hoe die gelowiges in Handelinge hulleself aan gesamentlike gebed gewy het (Hd.1:14, 2:42, 4:23-31, 12:5, 13:3, 14:23, 20:36, 21:5).

 

Moet die ongeregtigheid in Suid-Afrika en die wêreld ons nie in gebed na die Here toe dryf nie? Hoekom het selfs Christene begin om politieke, sosiale, ekonomiese, opvoedkundige, tegnologiese en morele oplossings te soek, eerder as om in gebed na die Here toe te draai?

 

In die 1700’s het die Britse Parlement met hulle hande in hulle hare gesit. Armoede en misdaad het teen ‘n astronomiese tempo toegeneem.  Selfs toe die doodstraf vir 126 verskillende misdade opgelê is, kon die regering nie die verval keer nie.  Daar was tot skole om vir kinders en volwassenes maniere te leer, maar dit het nie gehelp nie.  Dronkenskap het oorgeneem en tronke was oorvol.  Soos Frankryk, het Engeland op die punt van ‘n bloedige revolusie gestaan.  En toe het die Here vir George Whitefield en John Wesley opgewek.  Engeland is op sy kop gekeer.  Mense het by die tien duisende tot bekering gekom, sodat die morele waardes van die hele Brittanje drasties verbeter het.[1]

 

In dieselfde tyd het dinge in New England in die V.S.A. versleg. Immoraliteit, vuil taal en dronkenskap was aan die orde van die dag.  Jonathan Edwards het sy gemeente aangespoor om te bid.  Stadig maar seker het dinge begin om te verander.  En toe kom die herlewing.  Godvresende gesprekke en lewens het die goddeloosheid verdryf soos wat suiwer vloeiende water ‘n besoedelde poel skoonwas.[2]

 

Soos Amerika en Engeland in die 1700’s, is ons en die res van die westerse wêreld sterk op die afdraende pad. Soos in Gn.4:17-24 kan ons ons omgewing beheer, maar nie ons harte nie.  M.b.t. die tegnologie neem ons reuse spronge, en tog kan ons nie keer dat laerskool kinders en studente geboue afbrand nie.  Jesus is ons enigste hoop.  As ons Hom op sy Woord neem en met volharding bid (v.1), sal Hy ons volgens sy belofte in v.7-8 verhoor en sorg dat geregtigheid seëvier.

 

Kan die Here nie weer ‘n herlewing stuur soos in die tyd van Andrew Murray nie? Sal jy erns maak om hiervoor te bid – in jou stiltetyd en gesin, in eredienste en bidure?  Sal ons die Here smeek om geregtigheid in ons bose land en wêreld te bring?  Miskien doen Hy dit nie deur ‘n magtige herlewing nie.  Miskien laat Hy toe dat daar ‘n oorlog uitbreek.  Ek dink nie dit is verkeerd om soos die psalmdigters te bid dat die Here die slegte mense sal verwyder nie.  Ons bid immers dat Hý dit doen, en neem nie self wraak nie (v.7, Rm.12:19).

 

Dalk bring die Here geregtigheid deur sy Seun uit die hemel te stuur. Sal dit nie die beste van alles wees nie?  Mag die Here gou kom en ons vind waar ons besig is om te bid (v.8).  Ons moenie ophou om te bid nie (v.1).  Miskien het jy moedeloos geword.  Ons gemeente groei nie, en vir die Christelike kerk in Suid-Afrika lyk dit maar bleek.  Ons eie denominasie sukkel om kop bo water te hou.  Op die oppervlak lyk dit of die kerk in Suid-Afrika niks beteken nie.  Ons is soos ‘n mol wat probeer om ‘n berg te skuif.  Dit lyk of God se kinders nie ‘n duik maak in die samelewing nie.  Dit voel of die omstandighede vir ons te veel geword het, sodat duisende Christene die land verlaat.  Sommige kerke het besluit om die handdoek in te gooi en hulle by die wêreld te skaar.

 

Daar is niks tasbaar om vir ons te wys dat God gaan deurkom nie. Soos Gideon wil ons nie deur die geloof lewe nie; dit sal mos makliker wees as die Here net vir ons ‘n teken wil gee om te sê dat alles op einde sal uitwerk.  Maar daar is niks nie:  net gebed, geloof en die Bybel se beloftes.  Die feit dat ons niks kan sien nie, en dat gebed ook harde werk is, maak dit nie makliker nie.  Dit is ‘n uitdaging om aan te hou bid.  Jesus sê jy moenie opgee nie.  God sal op die regte tyd, plek en wyse ons gebede beantwoord (v.1, 7-8).

 

Is jy dalk ‘n twyfelaar wat sê: ‘Hoe weet ek die Here sê nie nee nie?  Hy het vir Moses, Jesus en Paulus nee gesê (Dt.3:26, Mt.26:44, 2 Kor.12:8-9)?  Wie sê dat Hy nie ook vir my nee sê nie?  Sal ek verniet aanhou bid as die Here nie my gebed wil beantwoord nie?  Dan help dit mos nie ek bid nie, of hoe?’

 

God, wat nie kan lieg nie, het belowe dat Hy ons gebede vir geregtigheid sal beantwoord (v.7-8). Hy het nie gesê hoe Hy dit gaan doen nie.  Ons weet dat Hy verseker weer na die aarde toe sal terugkeer, dat Hy ons in geregtigheid gaan oordeel, en dat Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gaan maak waarin daar geregtigheid woon (2 Pt.3:13).  Moet dan nie ophou om daarvoor te bid nie.

 

As dit wat ek vandag gesê het jou nie pla nie, en as jy nie ‘n begeerte hiervoor het nie, moet jy wonder of jy gered is. Volgens v.7 is dit God se uitverkorenes wat in gebed volhard, en wat vir geregtigheid bid.  As jy nog nie die Here ken nie is dit nie jou plig om te bid dat Suid-Afrika sal regkom nie.  Jou eerste plig is om te bid dat die Here nie geregtigheid vir jou sal gee nie, omdat dit sal beteken dat jy reguit hel toe gaan.  Bid dat die Here vir jou barmhartigheid en genade sal gee, en dat Hy jou sondes sal vergewe.  Erken dat jy verlore is, en roep uit dat die Here jou sal red (Rm.10:13).

 

Dank die Here dat Jesus ons sonde op Homself geneem het aan die kruis, en dat God se geregtigheid Hom daar vir ons gestraf het. As jy in Christus glo en op Hom vertrou, sal God verklaar dat jy regverdig en onskuldig is.  As jy dan op die oordeelsdag voor Hom staan, sal sy geregtigheid vereis dat Hy jou nie hel toe stuur nie, omdat Jesus reeds die straf vir jou sonde op Homself geneem het.  God straf nie twee keer dieselfde sonde nie.  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rm.8:1).

 

Ek onthou vaagweg ‘n gesprek wat ek met ‘n sendeling gehad het. Hy het in Etiopië gewerk.  Hy het vertel hoe die mense vreesbevange was vir die polisie, omdat hulle jou sommer doodskiet as jy ‘n brood steel.  Om ‘n skelm te vang en hom toe te sluit is geregtigheid.  Om hom dood te skiet omdat hy ‘n brood steel is nie.  Daarom kan ons nie op mense staatmaak vir volmaakte geregtigheid nie.  Daarvoor moet ons in gebed na die Here toe draai.

 

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: 2 vols.

[2] The Works of Jonathan Edwards: vol.1, Memoirs of Jonathan Edwards

Is jy gereed om God te ontmoet?

GloryToe ek 16 was het ek in ‘n slaghuis gewerk.  Die yskaste en vloere moes altyd skoon wees en die vleis vars, omdat die gesondheidsinspekteur enige tyd kon instap.  Alhoewel Jesus altyd in ons midde is, is dit ook so dat Hy soms spesiaal kom om ons te seën, en uiteindelik in lewende lywe sal terugkeer om by ons te wees.  Dit sal tragies wees as ons nie gereed is om ons Eregas te ontvang nie.  In Eksodus 35-40 het ons ‘n voorbeeld van hoe om gereed te kry om Hom te ontmoet.

 

Die materiaal vir die tabernakel (35:1-29)

Leon en Frans is twee boere in die Vrystaat. Omdat daar nie ‘n teken van reën in die lug is nie, voel Frans dis onnodig om sy trekkers en besproeiing in stand te hou, sy skure op te knap, om diesel, bemesting, en saad aan te koop.

 

Leon spandeer honderde duisende rande om alles reg te kry voordat die reën kom. Hy weet hy kan nie reën maak nie, maar hy bid dat dit kom.  Toe die reën kom, het Frans homself in ‘n gemors gevind.  Leon was gereed vir die groot oes.  Skielik was die geld wat hy moes uithaal niks nie, omdat die oes vir hom R15 miljoen ingebring het.

 

Soos Leon moet ons besef ons kan nie maak dat die Heilige Gees in ‘n magtige herlewing soos reën neerdaal nie. Ons kan nie maak dat Jesus weer kom en vir ons ‘n ryk beloning gee nie.  Maar ons kan baie geld bydra sodat die evangelie versprei word.  As die Heilige Gees in herlewing kom of Jesus terugkeer, sal ons gereed wees.  In daardie oomblik sal jy nie omgee oor die geld wat jy moes uithaal vir evangelisasie en sending nie.  Saam met David Livingstone sal sê:  ‘I never made a sacrifice.’  Dan sal jy besef dat die geld wat jy vir die evangelie gegee het glad nie ‘n opoffering was nie, maar ‘n baie slim belegging (Matteus 6:20).  In hfst.35 het die volk met vrywillige harte gegee, omdat hulle oortuig was dat God se teenwoordigheid in hulle midde iets baie spesiaal sal wees.

 

Hfst.35-39 is ‘n uitvoering van die bloudruk wat God in hfst.25-31 gegee het. Ek het die tabernakel reeds in detail bespreek en sal dus in hierdie preek net ‘n oorsig gee.

 

Toe Moses die eerste keer met die bouplanne van die berg afgeklim het, was die volk besig om die goue kalf te aanbid (hfst.32). God het gesê dat Hy nie meer in sy volk se midde sou wees nie.  Moses het vir die volk ingetree.  God het hulle vergewe en sy verbond met hulle vernuwe (hfst.34).  Hy het die planne vir die tabernakel gegee en gesê dat die volk dit mag bou (35:1).

 

Voor enigiets anders moes die volk die Sabbat gehou het as ‘n teken van God se hernude verbond met hulle (35:2, 31:16, 34:1, 10, 28). Selfs aan die tabernakel mag hulle net ses dae gewerk het, en moes hulle op die sewende dag rus (35:2).  Op die Sabbat mag hulle nie ‘n vuur gemaak het om metale te smelt vir die bou van die tabernakel nie (35:3).  Die volk het met vrywillige harte gewerk en gegee vir die bou van die tabernakel (35:5, 10, 20-22, 24-26, 29, 2 Korintiërs 9:6-7).  Die goud wat hulle gegee het sou nie weer vir ‘n kalf gebruik word nie (32:3-4), maar om die tabernakel te bou (35:22).

 

As jy vir die Here se werk bydra, moet jy dit doen met ‘n verwagting dat Hy met ons sal ontmoet. Dit is reg om geld vir strukture te gee.  Moet egter nie miljoene belê om skure te bou, terwyl jy niks uithaal vir die mielies wat in die skure moet kom nie.  Hou die kerkgeboue in stand.  Maar moenie meer geld spandeer op bakstene, verf, of ander administrasie, as op ‘n poging om mense vir die Here te wen nie.  Fokus op die groei van die mense wat in die gebou sit, eerder as op die gebou self.  Hoe doen ‘n mens dit?

 

  • Dra by vir die Groenewalds in Peru. Kyk ook of jy iets kan gee vir Herman Swart en Nico van Zyl wat in Tembisa werk.
  • Koop vir jou goeie traktaatjies (bv. Livingwaters se traktaatjies of Ultimate Questions van John Blanchard). Hou dit in jou kar of handsak. Kom in die goeie gewoonte om ‘n traktaatjie te gee as jy petrol ingooi, by ‘n restaurant eet, vir die karwag geld gee, ‘n siek persoon in die hospitaal besoek, by die tolhek stop, ens.
  • Haal geld uit vir goeie boeke, DVD’s, audio CD’s van die preke. Deel dit met kollegas wat swaarkry of vrae het. Hulle is in sulke tye meer vatbaar vir die evangelie. Moenie die kans mis nie.
  • Sit geld eenkant vir ekstra kos. Nooi dan ongelowige vriende, familie, bure, of kollegas vir ete. Praat oor wat jy in die Skrif en die preke leer. Vra hulle opinie daaroor. Moenie stry nie. Verwys hulle na die blog toe. Kom in die gewoonte om hulle saam te nooi kerk toe.

 

As daar oor vyf jaar 40 mense is wat Jesus leer ken het, as Jesus kom en jy het 50 of meer mense met die evangelie beïnvloed, sal jy nie dink jy het R10 000 of 20 000 ‘gemors’ nie. Jy sal bly wees vir die klein bydrae wat jy kon maak.  Jy sal gereed wees om die Here te ontmoet.

 

Watse vreugde sal jy hê as jy jou geld net gebruik het om jouself te verryk, en niks bygedra het vir God se werk nie? As die herlewing of Jesus kom, sal jy jou blydskap nie volkome wees nie, maar jy sal jou kop in skaamte sak.

 

Die konstruksie van die tabernakel (35:30-39:31)

Ek is reeds elf en ‘n half jaar in hierdie gemeente en voel gefrustreerd, omdat dit lyk of die kerk nie vooruit gaan nie. As daar vyftien nuwe mense bykom, is daar drie wat sterf, vyf wat bedank, een wat in sonde val, twee wat trek, vier wat uitsak.  Ons bid vir herlewing, maar wat die algemene patroon van God se werk in die geskiedenis betref, dink ek dink Erroll Hulse is reg:  ‘Reformation before revival’.

 

God wil hê ons moet voorberei om Hom te ontmoet. Josia, die volk onder Nehemia, en Israel in Eksodus 35-40 moes alles regkry voordat God in heerlikheid neergedaal het.  Natuurlik moet ons aanhou bid vir herlewing en groei, maar ons kan nie passief rondsit totdat dit gebeur nie.  Ons moet die lande bemes, ploeg, en saai:  gebruik jou gawe om die liggaam op te bou.

 

God het gesê dat Besaleël, Oholiab, en hulle helpers presies moes bou volgens die plan wat Hy vir Moses op die berg gegee het (36:1). Hulle het dit vrywillig, vreugdevol, en uit hulle harte gedoen (36:2).  Die volk het so baie gebring, dat Moses hulle moes stop (36:3-7).  Hulle het die tabernakel se bedekking gemaak, die ark, die tafel vir die toonbrode, die kandelaar, die wierook altaar, die brandoffer altaar, die koper waskom, en die binnehof.  Soos ‘n goeie rentmeester, het Moses rekord gehou van elke bydrae:  ‘n ton goud, 3.4 ton silwer, 2.4 ton koper.  In hfst.39 het hulle die priesters se klere presies volgens God se plan aan Moses gemaak (hfst.28, 39:1, 5, 7, 21, 26, 29, 31, 32, 42, 43).

 

Soos hulle aan die Ou Testament tabernakel gebou het, moet ons bou aan die Nuwe Testament tempel, die kerk (1 Korintiërs 3:16). God wil hê ons moet bou met die verwagting en smeking dat Hy ons sal besoek.  Moenie dien omdat jy skuldig voel, of omdat jy jammer voel vir my frustrasie nie.  As jy so dien sal jy ophou sodra jy nie meer skuldig voel nie, of sodra ek jou kwaad maak en jy my nie meer bejammer nie.  Dien omdat God se genade in jou hart werk, omdat jy besef jy kan nie net sit nie – jy moet dien.

 

Moenie self slim dinge wil uitdink om te doen nie, maar werk soos die volk volgens God se bloudruk. Hy wil hê jy moet jou gawe gebruik en die tempel opbou.  Bid vir God se krag en wysheid om ‘n visser van mense te wees wat die Nuwe Testament tempel opbou.  “Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag.” (Kolossense 1:28-29).

 

Gebruik wat jy goed kan doen om ongereddes te wen en gelowiges op te bou:

 

  • Gasvryheid
  • Goed werk met kinders
  • Die preke op ‘n webtuiste sit
  • Bybelse lirieke en gedigte skryf
  • Mense beraad en bemoedig
  • Help met die administrasie van uitreike (advertensies, uitnodigings maak)
  • Finansiële bydraes
  • Getrou bid
  • Organisering
  • ‘n Leier wees wat mense aanspoor
  • Iets anders

 

Besef asseblief voorbereiding kan nie waarborg dat God in ‘n herlewing sal neerdaal nie. Die Gees is soewerein (Johannes 3:8).  God het ook nie ons voorbereiding nodig om te werk nie.  Tog wil Hy hê ons moet ophou met die sonde wat Hom bedroef (hfst.32), doen wat reg (Openbaring 3:2), hard bid, en die kerk opbou.  Dit sal sleg wees as Hy kom en ons nie gereed is nie.  As ons nie gereed is nie, besluit Hy dalk om teen ons te kom (Openbaring 3:3).  Dit sal ‘n ramp wees.  Dien eerder getrou.  Dan sal Hy nie sê dat jy ‘n slegte dienskneg is nie, maar ‘n goeie en getroue dienskneg wat beloon moet word (Matteus 25:23, 26-30).

 

Die voltooiing van die tabernakel (39:32-40:38)

Jack is die direkteur van ‘n groot maatskappy. Hy sê vir die sekretaresse om ‘n vier ster gastehuis uit te boek vir ‘n twee dag seminaar.  Toe die gaste aankom was alles geboek, die beddegoed gewas, en die kamers gestofsuig.  Maar die personeel het nog geskarrel om die beddens op te maak.  Toe die gaste uiteindelik in die kamers ingeboek het, was daar probleme.  Een kamer het koffie gehad, maar nie suiker nie.  ‘n Ander kamer se ketel het nie gewerk nie.  ‘n Ander kamer se waaier het uitgebrand.  ‘n Ander kamer se warm kraan was eintlik die koue kraan.  By aandete was die skaapvleis en malvapoeding op voordat almal kon skep.  Een gas se vurk was vuil.  Toe die gaste gaan slaap het, was een gas se vensters vasgeverf, sodat hy dit nie kon oopmaak nie.  Jy kan raai dat Jack nie bereid was om die volle rekening te betaal nie, en dat hy in die toekoms nie weer van die gastehuis gebruik sou maak nie.

 

Net so stel God nie belang in ‘n Ou Testament tabernakel of Nuwe Testament ‘tempel’ wat nie is soos wat Hy beveel het nie. God sal ons net seën en tot ons neerdaal as ons sy bevele uitvoer (39:43, 40:34-38).  Dit is basies die punt van 39:32-40:38.

 

Die volk het die tabernakel en alles daarin voltooi (39:32). Hulle het alles voor Moses gebring (39:33-41).  Hy moes kyk dat dit volgens plan was, en het toe die volk geseën (39:43).  Byna een jaar na die uittog, het Moses die tabernakel opgeslaan (40:1-2):  die ark met die voorhangsel, die tafel met die brode, die kandelaar met sy lampies, die wierook altaar, die gordyn vir die ingang, die brandoffer altaar buite die tabernakel, die waskom tussen die altaar en die tabernakel, die heining rondom die binnehof met sy ingang (40:3-8).

 

Toe alles opgeslaan is, het Moses dit met olie gesalf om dit vir God af te sonder (40:9-11). Hy het ook Aäron en sy seuns voor die tent se ingang gewas, geklee, en met olie gesalf (40:12-15).  Net soos die volk, het Moses alles gedoen volgens God se bevel (40:16, 19, 21, 23, 25, 27, 29, 32).  Hy het die kliptafels in die ark gesit, die brode op die tafel, die lampies aangesteek, wierook op die goue altaar gebrand en brand offers op die koper altaar, en water in die waskom gesit (40:20, 23, 25, 27, 29, 30).

 

Voordat Moses, Aäron, en sy seuns offers kon bring of in die tent ingaan, moes hulle hul hande en voete gewas het (40:31-32). Die helder wolkkolom het op die tabernakel neergesak, sodat nie eers Moses daar kon ingaan nie (40:34-36, 1 Konings 8:10-11, Openbaring 15:8).  As die wolk opgestyg het moes die volk trek, en as dit neergedaal het moes hulle stop (40:36-37).  Vir 40 jaar was daar in die dag ‘n wolkkolom oor die tent, en in die nag ‘n vuurkolom (40:38).

 

Om God se heerlike teenwoordigheid en seën te beleef, moet ons reg doen. Sou God die volk geseën het en neergedaal het, as die tabernakel 95% reg was?  Wat as Moses alles volgens plan gebou het, maar besluit het die ark lyk beter in die binnehof?

 

God wil nie hê jy moet tevrede wees dat die meeste van jou lewe reg is nie; dat die meeste van die dinge in ons gemeente reg is nie.  Moses moes presies volgens plan bou (40:16).  Volg sy voorbeeld.  God weet jy sal nie op aarde sondeloos wees nie.  Maar jy kan onberispelik wees soos Daniël (Daniël 6:4), soos Josia wat nie links of regs van God se wet afgewyk het nie (2 Kronieke 34:2).  Moenie soos party konings wees wat die Here gedien het, maar nie met hulle hele hart nie (1 Konings 15:4); wat alles reg gedoen het, behalwe… (2 Konings 15:4).  Moenie soos vier van die sewe gemeentes in Openbaring 2-3 wees nie:  ‘Jy doen a, b, en c reg, maar Ek het dít teen jou…’

 

Is daar verkeerde dinge in jou lewe of in die gemeente wat ons moet regstel voordat die Here ons sal seën en tot ons neerdaal? Wat is daardie dinge?  Is dit sonde en ongehoorsaamheid (hfst.32), eenheid in die gemeente (Psalm 133:1, 3), biddeloosheid (Jakobus 4:2), liefde vir die wêreld (Jakobus 4:4), hoogmoed (Matteus 5:3), bose vriende (Psalm 1:1), ‘n onrein hart (Psalm 24:4-5), wat?  Bely dit en stel dit reg, en God sal na jou siel en die gemeente toe kom.

 

Hoekom moet ons reg doen? Gehoorsaamheid self bring blydskap nog voordat daar enige beloning is.  Hierdie blydskap  vermenigvuldig as God op ons neerdaal.

 

Na meer as ‘n jaar is ons klaar met Eksodus. Wat is die hoogtepunt van die boek?  Is dit die tien plae?  Of dalk die Rooisee of die Tien Gebooie?  Glo dit of nie, maar dis die tabernakel.  Dit is hoekom God hulle in die eerste plek uit Egipte gered het:  om in hulle midde te wees.  In hfst.32 (die goue kalf) het hulle byna sy teenwoordigheid verloor.  Genadiglik het Hy hulle vergewe en in hulle midde kom woon.

 

In die Nuwe Testament het Hy mens geword om sy skape te red en onder ons te ‘tabernakel’ (Johannes 1:14, Gk.). Deur sy Gees is Hy met ons (Johannes 14:23, Efesiërs 3:17), en eendag kom Hy weer om vir ewig sy ‘tabernakel’ in ons midde op te slaan (Openbaring 21:3, Gk.).  Is jy gereed om Hom te ontmoet?

Wat dink God van jou dominee se preke?

Steve Lawson

Liezel is die populêre nuwe graad 2 juffrou by die plaaslike laerskool.  Die kinders is mal oor haar en sê sy is die beste.  Sy geniet die aandag, maar weet dat die inspekteur binnekort haar werk gaan evalueer.  Aan die einde van die dag is dit sý evaluasie wat tel.  Net so mag mense van hulle dominee se preke hou, maar uiteindelik is God se evaluasie al wat saakmaak.  Paulus skryf:  “so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef.” (1 Tessalonisense 2:4).  In 1 Korintiërs 2:1-5 sien ons God se evaluasie van goeie prediking.

 

Die inhoud van Paulus se boodskap (v.1-2)

Charles Spurgeon staan bekend as die Prins van Predikers.  Soos Paulus s’n, was Spurgeon se boodskappe Christo-sentries, kragtig, en eenvoudig.  Baie het hom gespot en gesê sy styl is platvloers en hoort in die sirkus of teater.[1]  Jare gelede het ‘n ou man vir my gesê:  ‘Grieks en Hebreeus was nie deel van my predikant se opleiding nie, en daarom kan ek nie na hom luister nie.’  Om die oorspronklike tale te leer is goed, maar ‘n preek moet die aandag op Jesus vestig en nie op die prediker se geleerdheid of elegante styl nie.

 

Paulus spreek sy lesers aan as ‘broers’ (v.1).  Hy doen dit om te wys dat hy nie bo hulle staan nie, maar langs hulle (1:12).  Toe hy in hulle stad was, het hy nie die getuienis aangaande Jesus se kruisdood en opstanding met groot woorde of wêreldse wysheid verkondig nie (v.1, 1:17).  Paulus wou nie hê mense moet sy styl bewonder nie.  Daarom het hy besluit om op die inhoud te fokus:  “Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (v.2, vgl. 1:23, Galasiërs 6:14).  Wat beteken dit?

 

Die naam Jesus wys dat Hy die Verlosser is.  In Matteus 1:21 sê die engel vir Josef:  “en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”  Christus beteken ‘gesalfde’ (Handelinge 10:38, Matteus 3:16).  Jesus is die gesalfde Priester, Profeet en Koning.  As Priester het Hy die offer gebring vir ons sondes en tree Hy ook vir ons in.  As Profeet openbaar Hy God se wil aan ons.  As Koning oorwin Hy ons vyande en regeer Hy oor die wêreld.  Paulus noem Jesus ‘die gekruisigde’.  Die Griekse perfektum dui aan dat Jesus eens en vir altyd gekruisig is:  die prys is betaal; Hy het ons sondes weggeneem.  In 15:3 sê Paulus “dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte”.  Jesaja 53:5 sê:  “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

 

Jy kan nie die gekruisigde Christus verkondig en in die kollig wil wees nie.

 

Leer om die preke wat jy hoor reg te evalueer.  Is Christus die middelpunt van die preke wat jy hoor (v.2)?  Preek jou dominee die Woord (2 Timoteus 4:2)?  Moenie te vinnig ja sê nie.  Maak jou Bybel oop en kyk of dit wat hy sê uit die Bybel uit kom (Handelinge 17:11).  Sien jy dit in die teks?  Meet sy preke aan hulle inhoud en nie aan die prediker se styl nie.

 

  • Moenie ‘n preek vir soetkoek opeet, omdat die dominee ‘n teologiese graad het nie. Maar moet ook nie dink dat ‘n prediker meer geestelik is, omdat hy geen formele opleiding het nie.
  • ‘n Lang preek is nie beter voorberei as ‘n kort preek nie, en ‘n kort preek is nie beter net omdat dit kort is nie.
  • Moenie dink ‘n preek is outomaties goed as die prediker ‘n slim tema het nie.
  • Pasop dat jy nie preke evalueer volgens jou gunsteling onderwerpe nie: ‘Die preek was goed; die dominee het gepreek oor die eindtyd.’
  • ‘n Preek is nie goed omdat dit snaaks was of baie stories in gehad het nie.
  • Party dink dat elke preek ‘n bekerings- of hel-en-verdoemenis boodskap moet wees – anders was dit nie goed nie.
  • Ander dink ‘n goeie preek volg die kalender: ‘n preek oor ma’s op moedersdag, oor pa’s op vadersdag, oor liefde op Valentynsdag, oor die Reformasie op Hervormingsdag.
  • ‘n Goeie preek moenie aan die koerant gemeet word, sodat jy dink: ‘Die dominee is relevant’ nie.
  • Baie mense dink iemand is ‘n ‘teacher’ omdat hy Joodse agtergrond ken wat nie in die Bybel staan nie.
  • Moenie dink ‘n preek is goed, omdat die prediker geleerde mense in sy preke aanhaal nie.
  • Dalk dink jy ‘n prediker is sleg, omdat hy nie preek soos hulle in die ou dae gepreek het nie.
  • Het jy ‘n gunsteling prediker? Pasop om nie te dink ‘n preek is goed of sleg, omdat dit soos jou gunsteling prediker s’n klink of nie.
  • Baie mense dink ‘n interessante preek met kleurvolle Power Point skyfies maak dat dit goed is.
  • Vir sommige mense is ‘n preek goed as die dominee iets nuut gesê het; iets wat hulle nog nooit voorheen gehoor het nie.

 

Net soos God wil hê die prediker moet die Skrif alleen preek, wil Hy hê jy moet die Skrif alleen hoor.  Die prediker moet hard werk om die Woord reg te preek (2 Timoteus 2:15).  As hoorder moet jy sorg dat jy nie jou ore uitleen vir boodskappe wat nie direk uit die Skrif uit kom nie (2 Timoteus 4:3-4).  Mense wat nie tussen goeie en slegte preke onderskei nie, beskadig nie net hulleself nie.  Kerke word swakker.  Wolwe sluip in.  En die mense in die bank kom dit nie eers agter nie.  Die volgende geslag sal daaronder ly.

 

Die krag van Paulus se boodskap (v.3-5)

Aan die einde van 2009 het ‘n man uit die Evangelies Gereformeerdekerk ons gemeente besoek.  Hy was besig met navorsing.  Hy wou uitvind hoekom daar nie meer bekerings in kerke plaasvind nie.  Sy vermoede was dat daar nie meer Geesvervulde prediking is nie.  Hy was reg.  Paulus bevestig dit (v.3-5).

 

Paulus se 18 maande in Korinte was “in swakheid en in vrees en in veel bewing” (v.3).  In Handelinge 16 het die Romeine hom geslaan en in die tronk gesit.  In Handelinge 17 wou die Jode hom aanval.  In Atene het mense gesê sy boodskap is belaglik.  Toe hy in Korinte kom het die Jode hom teëgegaan.  Hy wou opgee, maar Jesus het hom bemoedig (Handelinge 18:6, 12, 9-10).  Paulus se vrees en bewing was nie ‘n vrees vir mense nie.  Hy het God gevrees.  Hy sou saam met John Knox kon sê:  ‘Ek is nie bang vir die duiwel nie, maar vrees elke keer as ek in die kansel instap.’

 

Die Korintiërs kon nie die inhoud en styl van Paulus se preke met die Griekse filosofie van hulle dag vergelyk nie:  “my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (v.4).  In 1:17 sê Paulus:  “Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.”  Volgens 2 Korintiërs 10:10, 11:6 het Paulus ‘n swak voorkoms gehad en was sy styl nie baie elegant nie.  God het Paulus se swakheid as ‘n geleentheid gesien om sy Sý krag ten toon te stel:  “En Hy het vir my gesê:  My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.  Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2 Korintiërs 12:9).  Vir Paulus is dit die krag van die Gees[2] wat saakgemaak het.  In ‘n parallele teks lees ons:  “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid” (1 Tessalonisense 1:5).

 

Waar die Gees in krag werk rus mense se geloof op God se krag om harte te verander, en nie op die kragtelose wysheid van mense nie (v.4-5).  Die Gees se krag om mense te verander lê nie in die wysheid van mense nie, maar in die boodskap van die kruis.  “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.” (Sagaria 4:6).  “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.” (2 Korintiërs 4:7).  As ons geloof op menslike wysheid rus, sal dit wankel sodra iemand ‘n beter redenasie het.  Maar as dit op die krag van God rus, sal dit nooit wankel nie (v.5).

 

Soek dan kragtige prediking.  Moet asseblief nie dink kragtige prediking is as iemand met ‘n charismatiese persoonlikheid heen en weer loop of skreeu nie.  ‘n Kragtige prediker is nie iemand wat sy gehoor met die nuutse sielkundige oplossings en motiverende toesprake betower of aanspoor nie.  Wees ook versigtig dat jy dit nie verwar met passie, erns, treffende toepassings, akkurate eksegese, soliede teologie, of glashelder illustrasies nie.  Dié dinge is belangrik, maar sonder die Gees is dit nie kragtige prediking nie.  Jy kan ‘n lyk mooi aantrek en grimmeer, maar net die Heilige Gees kan mense wat geestelik dood is opwek (Esegiël 37).

 

[1] As ons kragtige prediking wil hoor, moet die prediker en hoorders hulle sonde bely en laat staan.  Sonde bedroef die Heilige Gees (Efesiërs 4:30).

 

[2] Bid:  “hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:13).  Hou aan bid as God nie dadelik antwoord nie.  Sê soos Jakob:  “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.” (Genesis 32:26).

 

[3] Jy kan nie die Heilige Gees manupileer of dwing om te kom, omdat jy jou sonde bely en gebid het nie.  Die Gees is soewerein:  “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Johannes 3:8).

 

As jy nie kragtige prediking najaag nie, sal jy jou geloof op menslike wysheid bou (v.5).  Sonder Geesvervulde prediking sal ongelowiges nie gered word, en gelowiges nie verander nie (v.4-5).  In 6:11 is dit die Gees wat sondaars verander.  Volgens 2 Korintiërs 3:16-17 is dit die Gees wat ons bevry en ons blinde oë oopmaak.  As iemand nie uit die Gees gebore is nie, kan hy nie die Koninkryk van God sien nie (Johannes 3:5).  Die Gees oortuig die wêreld van sonde, geregtigheid, en oordeel (Johannes 16:8).  Die Gees maak ons harte oop om die Woord van God te verstaan (Handelinge 16:14).  Die Gees vul ons met liefde, sagmoedigheid, goedheid, vrede, selfbeheersing, ensovoorts (Galasiërs 5:22).  Die Gees help ons om die liefde van Christus te verstaan (Efesiërs 3:16-19).

 

Stuart Olyott is ‘n Walliese prediker.  As jong predikant het hy na Cosheston Mission Church gegaan om vir Hywel Griffiths te hoor preek.  Só beskryf hy wat hy daar gehoor het:

 

‘The preacher’s sermons were quite lengthy, filled with word-pictures and delivered with obvious love and deep emotion.  But there was something else.  They were accompanied by an indefinable influence.  As Hywel Griffiths preached, heaven came to earth.  The invisible world was more real than the visible one.  There was a touch of glory.  Christ was more precious than anything or anyone in the universe.  The Word came over with a self-authenticating force that was irresistible.  Not to believe was not an option, because it was indescribably foolish.  The only wise thing to do was to trust the Lord completely, and to love Him with all of my heart, soul, mind and strength.  I was not alone in receiving these impressions.  After each sermon the congregation sat in stunned silence, overcome by the sheer power of the Word.  Sometimes the silence was followed by spontaneous prayer.  Some came to Christ.  Many others like me, who were already believers, were changed for ever.’

 

Die meeste van ons het nog nooit sulke prediking gehoor nie.  Sommige het.  As jy dit eers gesmaak het sal jy dit weer wil hê.  Mag dit die Here behaag om dit vir ons te gee:  Christo-sentriese, Geesvervulde prediking.

[1] Arnold Dallimore, Spurgeon: A New Biography, pp.64-66

[2] Die Gees in v.4 verwys na die Heilige Gees en moet met ‘n hoofletter geskryf word.

Wat gebeur in ‘n herlewing?

Revival

Toe die herlewing in New England kom, was ‘n groot getal mense oorweldig met die liefde van God.  John Gillies skryf:

 

‘Many more began to put on immortality, almost, in the look of their faces….Their looks were all love, adoration, wonder, delight, admiration, humility.  In short, it looked to me a resemblance of heaven….Many old Christians told me they had never seen so much of the glory of the Lord, and the riches of his grace, nor felt so much of the power of the gospel before….never been so sensible of the love of God to them….they could not support themselves, many of them, under the weight of it, they were so deeply affected with it.  Had not Christ put underneath his everlasting arms for their support, I know not but many would have expired under the weight of divine benefits.’ (Iain Murray, Jonathan Edwards:  A New Biography, The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 1987, p. 174).

 

Tydens dieselfde herlewing het ‘n gehoor in Enfield aan die pilare vasgeklou en uitgeroep:  ‘What shall I do to be saved…Oh, I am going to hell…Oh, what shall I do for Christ…’ (Ibid, p.169).  Nog ánder, soos Charles Chauncy, het die herlewing uitgelag as fanaties, ‘n werk van mense (Ibid, pp.204-208, 244-246).  Soortgelyke dinge het gebeur tydens die herlewing op Pinksterdag:

 

1 En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. 2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3 Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. 4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

 

5 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. 6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; 7 en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? 8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? 9 Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, 10 Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, 11 Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. 12 En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander:  Wat kan dit tog wees? 13 Maar ander het gespot en gesê:  Hulle is vol soetwyn.” (Handelinge 2).

 

Dit wat tydens hiérdie herlewing gebeur het, gebeur in elke ware herlewing:  die Gees word uitgestort, massas drom saam en mense spot.

 

Die Gees word uitgestort (v.1-4)

Jesus het die Heilige Gees uitgestort soos reën, ‘n ‘oes’ van 3000 siele ingebring, en so die Pinksterfees vervul (v.1-4, 41, Levitikus 23:15-22).  Tydens die Pinksterfees het die Jode ook onthou dat God die wet vir Moses gegee het, 50 dae nadat hulle uit Egipte vertrek het (Eksodus 19).  In Handelinge 2 het Jesus sy wet op die dissipels se harte geskryf (Esegiël 36:27, Jeremia 31:33).  Daar was ‘n geluid soos ‘n sterk rukwind en tonge soos vuur (v.2-3).  Dit behoort jou aan God se soewereine teenwoordigheid en krag te herinner:  “En die hele berg Sinai het gerook, omdat die HERE in ‘n vuur daarop neergedaal het.  En sy rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe.” (Eksodus 19:18).  “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.  So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Johannes 3:8).

 

Die dissipels is almal met die Gees gevul (v.4).  Dit was nie die laaste keer nie.  In 4:8 lees ons dat Petrus gevul was met die Heilige Gees.  In 4:31 lees ons:  “En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.”  In 6:5 sê Lukas dat Stefanus vol was van die Heilige Gees (sien ook 7:55).  In v.4 word baie mense gelyk met die Gees gevul.  Dit noem ons ‘n herlewing.  ‘n Herlewing is nie wanneer ‘n klomp mense gelyk brabbel, sterk emosie ervaar, vorentoe stroom in reaksie op ‘n ‘altar call’, of in groot getalle by ‘n kerk opdaag nie.  Sommige mense sal jou daarvan beskuldig dat jy die Gees bedroef, blus of weerstaan as jy hierdie dinge bevraagteken.  Moenie skuldig voel nie.  Toets alles aan die Skrif.  In Handelinge 2 gee Lukas vir ons drie kenmerke van ware herlewing.

 

[1] Dit kom onverwags (v.2).  Oor die herlewing onder die Indiane het David Brainerd gesê:  ‘It is remarkable that God began this work among the Indians at a time when I had the least hope, and, to my apprehension, the least rational prospect of, seeing a work of grace propogated amonst them.’ (Jonathan Edwards, Works vol. 2, The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 1974, p.399).  Charles Finney en sy dissipels het tente opgeslaan en aangekondig:  ‘Vanaand gaan ons ‘n herlewing hê.’  Vandag kondig charismate vooraf aan dat die Heilige Gees teenwoordig sal wees in genesingsdienste.  Die Bybel leer anders.  Johannes 3:8 sê die Heilige Gees is soewerein (Johannes 3:8).  Ek het eenkeer ‘n preek gehoor wat ‘n ouditoreum van 2500 mense aangegryp het.  Jy kon ‘n speld hoor val.  Mans en vroue het trane afgevee.  Toe ek later die preek vir ‘n vriend speel, het hy aan die slaap geraak.  Soms is dit andersom.  Jy hoor ‘n preek wat geen impak op jou het nie.  As jy dit later op CD luister, gryp dit jou hart aan.  Die Heilige Gees werk wanneer Hy wil, waar Hy wil en hoe Hy wil.

 

[2] Predikers is dapper en vrymoedig.  Hulle prediking is Bybels, Christus-gesentreerd, Gees-vervuld, maak ‘n diep indruk, en lei tot die bekering van baie (v.14-41).  Mense wil nóg van die Woord hoor, en is nie tevrede met 15 minuut lange motiverende praatjies nie (v.40, 42).

 

[3] Die verandering in mense se lewens is blywend (v.42-46).  Dis nie soos met moderne ‘altar calls waar baie mense hulle geloof in Jesus bely, maar drie weke later weer wegval nie.

 

Massas drom saam (v.5-12)

Die Jode was versprei oor die antieke wêreld.  In v.9-11 maak Lukas melding van plekke in Iran en Irak (2 Konings 17:6), Turkye (1 Petrus 1:1), Noord-Afrika, Rome, die eiland Kreta en Arabië.  Jode uit hierdie lande, asook heidene wat hulle tot die Joodse geloof bekeer het (proseliete, cf. Matteus 23:15) het Jerusalem toe gekom vir die Fees.  Deur hulle bekering in Handelinge 2 is Jesaja 11:11-12 vervul:  “En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see; en Hy sal ‘n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde.”

 

Toe die skare die geluid hoor wat soos ‘n rukwind klink, het hulle saamgedrom (v.6).  ‘n Ruk later het omtrent 3000 tot bekering gekom (v.41).  Dit is algemeen in herlewings.  Iain Murray skryf:

 

‘at Mabry’s Chapel in Brunswick circuit, on the 25th and 26th of July, the power of God was among the people in an extraordinary manner…it was supposed that above one hundred souls were converted at that meeting’ (Revival and Revivalism, The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 1994, p.79).

 

‘It was thought that in the course of that summer (1776) there were so many as sixteen hundred souls converted in Sussex circuit; in Brunswick circuit about eighteen hundred; and in Amelia circuit about eight hundred.’ (Ibid).

 

‘The Tuckahoe church had seen 300 new members in the previous year; the Nomini church, constituted with seventeen members in April 1786, had grown to 222 in 1788 and to 300 in 1789.  The Upper King and Queen congregation (two miles from Newtown) had gradually increased until 1788 when, Semple reported, ‘God descended in mighty power.  A greater work of grace has probably never been known in Virginia within the limits of one church.’  For many months there were ‘seldom, if ever, less than twenty baptised, but more frequently forty, fifty and sixty’.’ (Ibid, p.81).

 

Moenie dink dat daar altyd ‘n ware herlewing is waar mense saamdrom of in tale praat nie.  Mense is nuuskierig en sal saamdrom vir ‘n karongeluk aan die teenoorgestelde kant van die snelweg.  Moet dan nie dink dat moderne tale noodwendig ‘n bewys is dat die Heilige Gees werksaam is nie.  Daar is ‘n groot verskil tussen die Bybelse gawe van tale en dit wat ons in die meeste charismatiese kerke sien:

 

[1] Die tale in v.4 is nie aangeleer nie.  Niemand het vir taalklasse gegaan nie.  Vandag word daar vir mense gesê dat hulle moet oefen om in tale te praat; dat die pastoor hulle sal leer.

 

[2] Die dissipels het in tale gepraat “soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” (v.4).  Die Heilige Gees is soewerein oor die gawes.  In baie charismatiese kerke wil almal in tale praat.  Maar die Bybel sê duidelik dat nie almal die gawe van tale het nie (1 Korintiërs 12:6, 10-11, 18, 24, 28).

 

[3] Pinksterkerke glo dat tale dié bewys is dat iemand met die Gees gedoop is.  Dis onsin.  Daar is geen bewys dat die gelowiges in v.38-39 in tale gepraat het nie.  In 4:8 is Petrus met die Gees gevul en preek hy met vrymoedigheid.  Dieselfde gebeur in 4:31 wanneer die dissipels met die Gees vervul word.  In 6:10 is wysheid die kenmerk dat Stefanus met die Gees gevul is.  Toe hy in 7:55 met die Gees gevul is, het hy die heerlikheid van Jesus gesien.  In 11:24 kenmerk baie bekerings die feit dat Barnabas met die Gees gevul was.  In 13:9 is Paulus met die Gees gevul, en onderskei hy dat die towenaar ‘n vals gees gehad het.  In 13:52 is blydskap die bewys van ‘n Geesvervulde hart.

 

[4] Nuwe Testamentiese tale was nie ‘n vreemde gebrabbel nie.  Dit was ‘n bonatuurlike vermoeë om, sonder lesse, ander lande se tale te praat (v.4-11).  Dit is onwaarskynlik dat die tale in Jerusalem en Korinte verskillende tale was.  1 Korintiërs 14:9-11 dui aan dat die tale ander lande se tale was:  “Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ‘n mens weet wat gespreek word?  Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.  Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie.  As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker ‘n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my ‘n vreemdeling wees.”  In 1 Korintiërs 14:21 haal Paulus aan uit Jesaja 28:11.  Hy het geweet Jesaja praat van ander lande se tale:  “In die wet is geskrywe:  Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here.”  Iemand maak beswaar:  ‘Maar 1 Korintiërs 13:1 praat dan van die tale van engele’.  Paulus gebruik hiperbool.  Hy sê:  “Al sou ek die tale van mense en engele spreek…En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit…En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word…” (1 Korintiërs 13:1-3).  Paulus sê nie hy kon al hierdie dinge doen nie.  Buitendien lyk dit uit die teks of die tale van mense en engele een is; asof mense en engele dieselfde tale praat.

 

[5] Die dissipels in Handelinge 2 het in die openbaar in tale gepraat.  Hulle het God geprys vir sy groot werke (v.11).  In 10:46 het die heidene God geprys in ander lande se tale.  In 1 Korintiërs 14:2 sê Paulus ook dat iemand wat in tale praat die Here prys:  “Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God”.  Die moderne gawe van tale is selfsugtig en mens-gesentreerd.  Die Skrif sê duidelik dat mense wat die gawe het dit in die openbaar moet gebruik.  Tog gebruik baie charismate dit as ‘n private gebedstaal.  Die Bybel sê:  “Maar aan elkeen word die openbaring [‘n gawe] van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.” (1 Korintiërs 12:7).  Paulus sê die gawe van tale moet uitgelê word, “sodat die gemeente stigting kan ontvang…So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente…Hoe staan die saak dan, broeders?  Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging—laat alles tot stigting geskied.” (1 Korintiërs 14:5, 12, 26).  Die punt is duidelik:  tale moet in die openbaar gepraat word en uitgelê word, sodat die gemeente geestelik versterk kan word.  Daar bestaan nie iets soos ‘n private gebedstaal nie.  Dalk sê jy:  ‘Maar wat van 1 Korintiërs 14:14-19?’  Hierdie verse praat nie van ‘n private gebedstaal nie, maar sê dat tale in die gemeente uitgelê en verstaan moet word, sodat ander opgebou word.  Paulus sê dis nie goed as jy in ‘n taal praat sonder om te verstaan wat jy sê nie.

 

“Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.  Hoe staan die saak dan?  Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid.  Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.  Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van ‘n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?  Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.  Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal; maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tien duisend woorde in ‘n taal.”

 

Om saam te drom vir ‘n charismatiese gebrabbel wat niemand verstaan nie, het niks te doen met ware herlewing nie.

 

Mense spot (v.13)

Party Jode het nie die tale geken nie, en het gesê dat die dissipels dronk is (v.13, 15).  Leer hieruit dat teenstand in tye van herlewing dikwels kom van godsdienstige mense wat nie die Heilige Gees of sy werk ken nie (Johannes 14:17).  Wees versigtig dat jý nie spot wanneer die Gees werk, sodat mense in ‘n preek om genade smeek, uitroep vir redding, op hulle gesigte val in vrees, bid, of selfs flou voel deur sy oorweldigende liefde vir ons nie.  Toets egter alle ervarings aan die Skrif.  Maak seker dis in die Bybel.  En maak seker die betrokke mense het selfbeheersing.  Die vrug van die Gees is selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23).  ‘n Chaotiese byeenkoms waar mense buite hulleself is, is nie van die Heilige Gees af nie, want God is ‘n God van vrede en orde (1 Korintiërs 14:33, 40).  Dis te verstane dat mense daarmeé spot:  “As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie?” (1 Korintiërs 14:23).

 

Tydens George Whitefield se toere in Amerika, het God sy Gees uitgestort.  Tienduisendes het saamgedrom om hom te hoor preek.  Benjamin Franklin het baie van Whitefield se prediking gehou.  Maar hy het hom nooit bekeer nie.  Moenie só wees nie.  Moenie jou hart verhard as die Gees vandag deur die Woord met jou praat nie (Hebreërs 3:15).  “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.” (Openbaring 3:6).