God se swaard en sy roede

God's sword

Wanneer dit by God se swaard en sy roede kom, bestaan daar ‘n paar gevare.  Belinda dra die gevolge van haar sonde, maar blameer die duiwel en sien nie die Here se hand in haar tugtiging nie.  Riaan dink nie baie oor God se heilige geregtigheid nie, en dink dat Hy net liefde is.  Gevolglik dink hy nie wanneer hy sondig nie, en vrees hy ook nie die Here se tugtiging nie.

 

Hilda is ‘n bietjie soos Eeyore:  wanneer die Here haar tugtig, sien sy geen liefde agter die roede nie, en dink sy dat Hy haar met sy swaard straf.  Penny is ‘n ateïs.  Sy glo nie in die Here óf sy swaard nie, en is in vir ‘n aangename verrassing.  Jes. 27 praat tog duidelik van die Here se swaard en sy tugroede.

 

Leviatan (v.1)

Oral in die wêreld hoor ‘n mens stories van drake.  In ou Engeland het mense vir hulle kinders vertel van ridders wat drake doodmaak.  In Jes. 27:1 praat Jesaja van die Here wat ‘n draak met sy swaard doodmaak.  Sy swaard is hard en onbreekbaar; dit is groot en kan baie skade aanrig; dit is sterk, omdat die Een wat dit gebruik almagtig is (v.1).  Dit is beter as king Arthur se swaard, Excalibur.  Met sy swaard sal die Here vir Leviatan straf (v.1).

 

Wie is Leviatan?  Hy is die vinnige en kronkelende slang, die draak wat in die see is (v.1).  Hy is vinniger as ‘n swart mamba, maar nie vinnig genoeg om vir die Here te vlug nie.  Hy het soos ‘n luislang gekronkel, maar was ook slinks of kronkelend in sy karakter (Gen. 3:1).

 

Leviatan was ‘n tipe draak of dinosourus wat in die see gewoon het (v.1, Job 40-41, Ps.104:26).[1]  Jesaja gebruik dit as ‘n simbool vir God se vyande.  In 51:9-10, Ps. 74:13-14 en Eseg. 29:3-5 is dit duidelik dat die draak of Leviatan na Egipte verwys.  In Op. 12:9 praat Johannes van Satan as die slang en die draak.

 

Volgens v.1 sal die Here hierdie vyande met die swaard tref.  God het vir Egipte, Assirië en Babilon geoordeel.  Hy het ook deur Jesus se lewe, kruisdood en opstanding die duiwel geoordeel (Gen. 3:15, Matt. 12:28-29, Luk. 10:18, Ef. 4:8, Kol. 2:15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8, Op. 12:9-11).

 

Maar al het Hy die draak of slang dodelik gewond, spartel hy om met sy laaste krag om te verwoes (1Pet. 5:8).  Hy is soos ‘n buffel wat die doodskoot gekry het, maar met mag en mening kom om jou uit te haal.  By die wederkoms sal Jesus hom finaal in die hel werp (v.1, Op. 20:10).

 

As jy in sonde lewe, sal jy saam met die duiwel daar wees, omdat jy aan die verkeerde kant van God se swaard was.  Die skild en borsharnas van jou goeie werke en self geregtigheid was nie hard of sterk genoeg om te keer dat God se swaard deurdring en jou hart penetreer nie (Heb. 4:12, Op. 19:15).

 

As jy jou bekeer en in Jesus glo, sal God jou nie met hierdie swaard deurboor nie.  Hy sal sy Seun se kruisdood beskou asof dit joune is.  Op Golgota het God die swaard van sy geregtigheid uit die skede getrek, en vir Jesus daarmee deurboor.  Die pyn het soos ‘n dolk deur die Vader se hart gesteek, maar Hy het dit uit liefde vir sondaars gedoen.

 

As jy aan die Here behoort, kan jy hierdie selfde swaard gebruik om teen Satan te veg (Ef. 6:17).  Met God se groot, sterk en harde swaard, sal jy die duiwel se swaard uit sy hande uitslaan, en sal hy vlug (Jak. 4:7).

 

Die wingerd (v.2-6)

Toe ons Kempton Park toe getrek het, het ons drie vrugte bome in ons erf gehad.  Die termiete het die appelkoosboom opgevreet.  Die pruimboom staan nog, maar dra skaars vrugte.  Die perskeboom het elke jaar groen vrugte wat uitdroog en swart word.

 

In Jesaja se tyd was Israel so.  Maar in die toekoms sal dit verander.  Wanneer God sy volk se vyande oordeel (v.1), sal Hy ook die slegte wingerd van Jes. 5 in ‘n lieflike wingerd van skuimende wyn verander, sodat die klaaglied in ‘n loflied verander (v.2).

 

Hy sal sy wingerd natlei en dag en nag bewaar; Hy sal dit nie aan die dorings, distels, bosvarke en droogte oorgee soos in 5:5-6 en Ps. 80:13-14 nie (v.3).  Wie is die wingerd?  Dit is Israel, maar uiteindelik word dit in Christus vervul.  Dié wat deur geloof met Hom verenig is, is deel van die Ware Wingerd (Joh. 15:1-8).

 

Die Here is nie meer kwaad vir hulle soos in Jes. 5 nie (v.4).  Die toorn wat op hulle moes kom, het Hy soos ‘n waterval van lawa oor Jesus uitgestort (Matt. 27:46, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13).  Om sy volk te beskerm sal die Here ook die dorings en distels – sy volk se vyande – wat tussen die wingerd groei, verbrand (v.4, vgl. 5:6, 10:17).

 

En tog het die vyand nog ‘n kans om die Here se beskerming aan te gryp soos ‘n man wat ‘n stewige tak vasgryp as hy in dryfsand wegsink (v.5).  As die vyand deur geloof en bekering vrede met die Here maak (v.5, Rom. 5:1), sal Hy nie teen hulle baklei nie (v.4).

 

In die toekoms sal Jakob of Israel wortel skiet, bloeisels dra, lote uitskiet en vrugte dra (v.6, 37:31).  Israel se vrugte sal nie net die land vul nie (Ps.80:12), maar die hele wêreld (v.6).  Die vrug verwys na die vrug van bekering, asook na die vrug van nuwe bekeerlinge (Matt. 3:8, Rom. 1:13).

 

Deur ons eenheid met Jesus Christus, sal ons hierdie vrugte dra.  In die toekoms sal daar baie bekerings onder die Jode en die heidene wees; die wêreld sal God se wingerd wees wat met vrugte oordek is.  Die druiwe sal nie suur of wild wees soos in Jes. 5 nie, maar soet en sappig.

 

Diep in elke gelowige se hart het hy ‘n begeerte om ‘n wingerd van skuimende wyn te wees wat goeie vrugte vir Jesus dra, sodat die Vader verheerlik kan word (v.2, Joh. 15:8, Fil. 1:11).  Dit bedroef hom as hy die suur korrels van jaloesie, wellus, ongehoorsaamheid, woede, verslawing, twis, angs en ander sondes in sy hart sien.

 

Omdat die takke egter aan die wingerd verbind is, is suur korrels die uitsondering en nie die norm nie.  As die Vader ‘n tros pluk, sal Hy meestal die soet korrels van bekering proe:  ‘n gelowige wat die Here en sy naaste liefhet, wat geduldig is met ander mense, wat goeie werke doen wanneer niemand kyk nie, wat homself dissiplineer om te bid, ens.

 

Maar as die Here ‘n droë tak vind wat nie vrugte dra nie, weet Hy dat iemand dit met gom daar geplak het.  Hy sal die tak afbreek en saam met die dorings en distels verbrand (Eseg. 15, Joh. 15:6, Matt. 3:10).

 

Iemand wat m.a.w. sê dat hy ‘n Christen is en kerk toe kom, maar nie die vrug van bekering dra nie, sal saam met die moordenaars en verkragters in die hel gestraf word.  Sy straf sal erger wees as hulle s’n (Luk. 12:47-48).  Om van die Here se straf te vlug, moet hy ná Hom toe vlug (v.5).  Net Hý kan ons teen sy eie straf beskerm (v.5).

 

Die ballingskap (v.7-9)

‘n Goeie tuinier werk nie met sy rose soos met die onkruid nie.  Hy snoei die rose, maar die onkruid trek hy wortel en al uit.  Toe die Here vir Israel getugtig het, het Hy hulle nie so hard getref soos Hy dit met hulle vyande gedoen het nie (v.7).  Hy het hulle nooit met die tien plae getref, in die Rooi See verdrink, of uitgewis nie.

 

Hy het hulle nou wel met die vurige toorn van sy geweldige wind na ander lande toe verdryf, soos op die dag wat die skroeiende oostewind waai (v.8, Jer. 18:17, Gen. 41:6, Jona 4:8).  Maar Hy het altyd teruggehou en hulle nie in volle mate gestraf nie (v.8, Jer. 4:27, 5:10, 18).

 

Dit is omdat Hy beplan het om hulle in die toekoms te red.  Deur die bloed van Jesus het God Jakob se skuld weggevat (v.9, Rom. 11:26-27, kontra 22:14).  Om te wys dat hulle met die Here versoen is, sal Israel in die toekoms van hulle afgode ontslae raak en vir Jesus Christus aanbid (v.9b, afgode in Rigters, 1 & 2 Konings, die groot en die klein profete, Matt. 15:8-9, Hand. 7:40-43, 1Joh. 5:20-21).  Dit sal die volle vrug of bewys wees dat God hulle sonde weggevat het (v.9a, 6).

 

Hoe moet ons hierdie drie verse toepas?  Soms raak ons moedeloos wanneer die Here ons tugtig.  Ons dink dat Hy teen ons is, dat Hy ons nie liefhet nie, en dat Hy van ons vergeet het.  Maar is dit die doel en motief as jy jóú kind moet tugtig?  Hoekom sal ‘n volmaakte Vader dit dan doen?

 

Wanneer die Here ons tugtig is Hy vir ons.  Hy wil nie hê ons moet op die pad van sonde loop en onsself beskadig nie, en daarom tugtig Hy ons uit liefde.  Dit voel miskien of die Here ver is, maar eintlik is Hy baie naby wanneer Hy jou oor sy skoot trek.  Hy doen dit om goeie vrugte in jou lewe voort te bring, en om karakter in jou te kweek (v.9b, Heb. 12:5-11).

 

Moenie moedeloos raak wanneer die Here jou tugtig nie.  Hy tugtig jou nie volgens wat jy verdien nie, maar werk saggies met jou soos ‘n pa wat nie al sy krag gebruik wanneer hy sy tweejarige pak gee nie (Ps. 103:10, 13, 130:3).  Die Here tref jou nie met sy swaard nie, maar met sy roede (v.7-8).

 

Met die swaard van sy oordeel het God sy Seun in volle mate soos ‘n ongelowige getref, sodat Hy óns nie so hoef te tref nie (v.7-8).  Wees lief vir Hom, en raak ontslae van die dinge wat jou van Hom af weghou (v.9b).

 

Die stad (v.10-11)

Ek bly nou 13 jaar in Kempton Park.  Van wat ek hoor, was die ou Kempton hospitaal baie goed.  Vandag staan die geboue leeg en groei daar onkruid in die parkeer area.  Die staatshospitale wat nog oop is lyk nie veel beter nie.  Die vervalle geboue wys dat dié wat in hoë plekke is geen onderskeid het nie, en dat hulle die geld wanbestee.

 

Jerusalem was so.  God het die stad met haar afgode vernietig (v.9-10, 24:10).  Dit was so leeg, eensaam en verlate soos ‘n woestyn; die vee het tussen die bouvalle gewei en die bome se takke kaalgevreet (v.10).  Vroue het die droë takke afgebreek om vuur te maak (v.11).

 

Hoekom het die Here Jerusalem so vernietig; hoekom het Hy Hom nie oor haar ontferm en guns aan haar bewys nie (v.11)?  Dit is omdat hulle God nie geken of erken het nie; hulle het nie tussen goed en kwaad onderskei nie (v.11, 1:3, 5:20, 6:9-10, Deut. 32:28, Hos. 4:6).  Hy moes hulle eers met die roede slaan (v.7-11), voordat hulle kon vrugte dra (v.2-6).

 

Wat het hierdie verse met ons te doen?  Geen vesting kan God se swaard keer nie (v.10-11).  Party mense bou vir hulle ‘n koninkryk van geld, en vind hulle sekuriteit daarin (soos Hugh Hefner).  Ander soek hulle beskerming by mense:  hulle voel veilig as iemand hulle aanvaar, en verlore as mense hulle verwerp.

 

Vir ander is hulle posisie by die werk, hulle kwalifikasie, die plek waar hulle studeer het, hulle familie se reputasie, hulle taal en nasionaliteit, hulle kennis, ens. die vesting waarop hulle vertrou.  Volgens v.10-11 het hierdie mense geen onderskeid nie.  Net as jy op die Here vertrou en Hom vrees, sal jy en jou kinders ‘n veilige vesting hê (v.13, Spr. 14:26).

 

Die oes (v.12-13)

Christene verskil oor wat in die toekoms met Israel gaan gebeur.  Sommige dink dat daar glad nie vir hulle hoop is nie, en dat hulle nie na Israel toe sal terugkeer nie.  Ander dink dat God die land aan hulle belowe het, en dat hulle in die toekoms weer daar sal bly.  Persoonlik lyk dit vir my of hulle na die land toe sal terugkeer.

 

Die Eufraat rivier en die spruit van Egipte was die ideale noordelike en suidelike grense van Israel (v.12, Gen. 15:18).  Oral in die land – van noord tot suid – sal die Here sy volk een vir een soos druiwe of olywe afoes en in die Koninkryk insamel (v.12, Matt. 3:12a).  God se tugtig (v.11) sal goeie vrugte voortbring (v.12).

 

Wanneer die groot trompet geblaas word, sal God se verlore skape onder die heidene (Jesaja gebruik Assirië en Egipte as voorbeelde) na die hemelse Jerusalem toe kom om die Here te aanbid (v.13, 2:2-3, 11:11, 19:23-25, 25:6).  Dit het begin toe die heidene deur Jesus se kruisdood deel van Israel geword het (Joh. 10:16, 11:51-52, Ef. 2:11-22).  In die toekoms sal dit vermenigvuldig wanneer die Jode en heidene in groot getalle tot bekering kom (v.12-13).

 

Wat wil Jesaja in v.12-13 vir ons leer?  Ek glo nie dat Israel in die toekoms ‘n spesiale plek onder die nasies sal hê nie.  En tog wil ek byvoeg dat die Here nie klaar is met hulle nie.  Die Here het hulle vir ‘n tyd lank verwerp, maar in die toekoms sal baie van hulle tot bekering kom (Rom. 11:25-26).  Hy het sy volk soos ‘n olyfboom afgekap, maar sal hulle in die toekoms in hulle eie stam terug ent (Rom. 11:23-24).

 

Ons moet onsself dan nie bo Israel verhef en op hulle neersien, omdat die Here van hulle af weggedraai het om ons te red nie (Rom. 11:17-22).  Ons moet eerder uit hulle voorbeeld leer en sien hoe die Here hulle getugtig het.  As ons uiterlik in die Here deel, maar nie ‘n nuwe hart het nie, sal die Here ons ook afbreek.

 

Bid eerder vir ‘n herlewing onder Israel en die heidene, en glo dat die Here jou gebede sal beantwoord.  Hy sal sy swaard en sy roede teen Israel bêre, en hulle vergewe.  In C.S. Lewis se boek, The Horse and his Boy, skryf hy van ‘n leeu wat ‘n seun en ‘n meisie op hulle perde gejaag het.  Hulle was verskriklik bang, maar gelukkig het hulle weggekom.

 

Later het hulle uitgevind dat die leeu eintlik die groot en sagmoedige Aslan was.  Hy het hulle gejaag, sodat die perde hulle betyds by die koning kon uitbring.[2]  Net so gebruik die Here ook sy roede om ons te bevoordeel.  Dit is net as jy Hom verwerp dat Hy sy swaard teen jou sal gebruik.

 

[1] Die Afrikaanse Bybel sê dat die dier in Job 40-41 ‘n krokodil is.  Die beskrywing klink egter nie na ‘n krokodil nie, maar na ‘n tipe dinosourus wat in die see gewoon het.

[2] C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Horse and his Boy, HarperCollinsPublishers, New York: NY, 1954, pp.271, 281

Advertisements

God se byl

Axe

Jy ken seker die storie van Thor se hamer?  In Noorse mitologie was Thor die god wat met donderweer geassosieer is.  Die naam Donderdag of Thursday is van hierdie naam afgelei (Thor’s Day).  Sy hamer se naam is Mjölnir, en is veronderstel om een van die magtigste wapens op aarde te wees.  Die ou Noorweërs het gesê dat die berge kon platslaan.  Ons weet natuurlik dat Thor nie regtig bestaan het nie, en dat dit ‘n mite is.  Die God van Israel en sy byl is egter nie mite; Jes.10:5-34 praat daarvan.

 

Die val van Assirië (v.5-19)

God was kwaad oor goddelose Israel se sonde, en het vir Assirië as sy staf en roede gebruik om haar te slaan (v.5-6, 9:16).  Hy het nie maar net die Assiriërs toegelaat om vir Israel aan te val nie, maar het hulle beveel soos wat Hy die sneeu en die wind beveel (v.6, vgl. Hab.1:6).  Hy het vir hulle gesê om sy volk dood te maak, om hulle te plunder, en om hulle soos modder in die strate te vertrap (v.6, 8:1-4).

 

Assirië se motief was egter nie om die Here se heilige en regverdige oordele uit te voer nie, maar om sy eie mag te toon en om absoluut te verwoes (v.7).  Sy motief was sondig (v.7), terwyl die Here s’n heilig was (v.5-6).

 

Dit is byna soos ‘n ma wat haar vierjarige dogter met ‘n boodskap na haar boeties toe stuur:  ‘Gaan sê vir jou boeties ék sê hulle moenie so rof met jou speel nie.’  Met die gesag van ‘n grootmens gaan sy na haar boeties toe.  Sy steek vir hulle tong uit en sê:  ‘Mamma sê julle moet dadelik ophou om so rof met my te speel, anders gaan sy julle pak gee!’  Die ma se intensie verskil heeltemal van haar dogter s’n.  So was dit ook met God en Assirië (v.5-7).

 

Assirië was arrogant en het nie erken dat sy mag van die Here af kom nie.  Hy het in homself geroem (v.9-11):  ‘Wanneer ek ‘n nasie oorwin, word hulle koning ‘n leier in my weermag.  Ek het ook die groot stede wat in die strook langs die Middellandse See lê, platgevee.  Van noord tot suid was dit Karkemis, Arpad, Kalno, Hamat, Damaskus en Samaria.  Dit is net logies dat Jerusalem die volgende groot stad in my visier is.  Toe ek my hand uitgestrek het om die nasies vir myself te vat, het nie een van hulle gode my gekeer nie.  Hoe gaan Jerusalem en haar gode my dan keer?’

 

Die onsigbare God van Israel en Juda sou hom gekeer het (2 Kon.19:17-19).  As die Here klaar sy volk getugtig het, sou Hy die arrogante koning van Assirië vir die trots in sy hart en oë gestraf het (v.12, 37:37-38).  In sy arrogantheid het hy gesê:

 

‘Deur my sterk hand en wyse oorlogstrategie het ek al hierdie stede verower en hulle skatkamers geplunder.  Ek skuif lande se grense soos ek wil.  Ek is soos ‘n bul wat rooi sien:  ek bring konings op hulle knieë voor my; ek bring hulle van hulle trone af (v.13).  Ek is soos iemand wat ‘n verlate nes vol eiers kry – ek vat dit vir myself.  Die rykdom van die volke en van die hele aarde is myne.  Soos ‘n bang voël het niemand dit gewaag om ‘n vlerk te flap of te twiet nie’ (v.14).

 

God het vir die arrogante koning van Assirië gelag.  ‘Waar het jy al gesien dat ‘n byl of saag beter is as die een wat dit gebruik?  Sonder die houtkapper is die gereedskap nutteloos.  Tel die staf of roede die man op of andersom?  Die staf is van dooie hout gemaak en kan niks doen nie’ (v.15, 5).

 

Die Here van die Leërskare het besluit om die koning van Assirië en sy dapper soldate met ‘n verwoestende siekte te straf (v.16).  Só het Hy hom en sy heerlikheid in een nag vernietig (v.16-17, 37:36).  Assirië was die doringtakke en die onkruid; God was die vuur wat hulle verteer het (v.16-17, Heb.12:29).

 

God het die Assiriërs gebruik om sy volk soos ‘n woud aan die brand te steek (9:17-18).  Nou het Hy húlle soos ‘n woud aan die brand gesteek (v.16-18).  Hy sou hulle liggaam en siel verwoes het soos wat siekte ‘n mens se liggaam uitteer (v.18, Mt.10:28).  As God klaar die Assiriërs vernietig het, sou hulle soos ‘n woud gewees het waarvan die bome afgekap is.  Die soldate in sy weermag sou m.a.w. so min gewees het, dat ‘n kind hulle kon tel (v.19).

 

Om v.5-19 reg toe te pas, moet ons verstaan dat dit oor God se soewereiniteit gaan, en dat Hy oor alles en almal regeer (Ps.103:19).  Hy is soewerein oor bose nasies en hulle konings (v.5-6).  Dit is Hy wat konings aanstel en hulle weer afsit (Dn.2:21).  Al dink ‘n regering of ‘n leier dat hulle in beheer is, is God die Een wat hulle aangestel het (v.5-15, Rm.13:1).  Die mag wat hulle het kom van Hóm af (Jh.19:11).

 

Ons hoef dus nie bang te wees wanneer sekere leiers in ons land arrogant is en praat asof húlle in beheer is nie.  Ons moenie die toekoms vrees nie, maar op die Here vertrou.  Hy is by magte om mense se bose dade te gebruik om sy goeie planne uit te werk (v.5-7, Gn.45:5, 8, 50:20, Ps.105:17, Hd.2:23, 4:27-28).

 

Dit geld ook op ‘n individuele vlak.  Die Here is soewerein as Sarel sy vrou sleg behandel, of as Alicia van haar man skinder.  Hy is soewerein as Gert rebels is en sy ouers se hart breek.  Hy is soewerein as Retha se vyand ‘n leuen oor haar vertel, of as Pieter se kollegas hom kritiseer.

 

Soos met Israel, gebruik Hy mense om ons te verneder en na Hom toe te draai.  Ondersoek daarom jou eie hart om te sien of dinge in jou lewe reg is.  Indien nie, moet jy dit regstel.  Bely jou sonde en bekeer jou daarvan.  Lê stil onder die Here se swaar hand, en wag totdat Hy jou op die regte tyd verhoog (1 Pt.5:6).  Probeer om nie bitter te raak nie, maar gee aanhoudend jou probleem in gebed vir die Here (1 Pt.5:7).

 

Die punt wat ek wil maak is nie dat die Here kop in een mus is met die mense wat teen jou sondig nie.  Sy intensies met jou beproewing is goed, terwyl die mense wat Hy gebruik slegte motiewe het (v.5-7).  Die troos lê egter daarin dat selfs slegte mense nie kan doen wat hulle wil nie.  Die Here sal hulle gebruik om sý planne uit te voer (v.5-15).  En aan die einde van alles sal Hy hulle oordeel vir wat hulle aan sy kinders gedoen het (v.16-19).  Laat ons dan leer om deur geloof en gebed ons probleme in sý bekwame hande te los.

 

Die bekering van Israel (v.20-34)

Het jy al ooit ‘n plant in jou tuin gehad wat jy nie kon uitroei nie?  Sodra jy dink jy het dit uitgeroei, kom dit weer op.  Dit is asof jy dit net nie kan uitroei nie.  Maar as jy hard probeer sal jy dit regkry.

 

Met God se kinders is dit anders.  Al staan al die magte van die hel teen God se kinders op, kan hulle ons nie uitroei nie.  So was dit in v.20-34 met God se volk.

 

Ons onthou uit hfst.7 hoe die konings van Israel en Sirië vir Jerusalem aangeval het.  Jerusalem het vir Assirië gevra om te help, maar op die ou end toe draai hy om en toe veg hy téén haar (1 Kon.16:7, 2 Kron.28:20).

 

Maar in die toekoms sou dit nie so gewees het nie.  Die oorblyfsel van Israel sou nie meer op die koning van Assirië vertrou het nie, maar op die Here (v.20, vgl. die betekenis van Sjear Ja-sjub in 7:3).  Met ‘n opregte hart en in waarheid sou hulle op die Heilige van Israel gesteun het (v.20).

 

Na Israel se ballingskap sou die oorblyfsel van die volk nie net na die land toe teruggekeer het nie, maar na die Here toe (v.21).  Hulle sou dus tot bekering gekom het en in die magtige God van Jakob geglo het (v.21, 9:5).

 

Volgens God se belofte aan Abraham was Israel soos die sand van die see, maar nou het hulle as ‘n oorblyfsel teruggekeer (v.22, Gn.22:17).  Volgens die Here se raadsplan het Hy die volk verwoes en uitgeroei (v.22).  Dit het Hy gedoen omdat Hy vol van geregtigheid was, en die volk vol van sonde (v.22).  Sy besluit om hulle uit te roei was heeltemal heilig en regverdig (v.22).  Sy oordele het nie net vir Israel gegeld nie; die ander nasies sou ook deurgeloop het (v.23).

 

God het die Assiriërs gebruik om vir Samaria te straf.  Hulle sou egter nie suksesvol gewees het teen Jerusalem nie; dit was onnodig dat sy die roede van Assirië gevrees het soos wat sy dit in Moses se tyd onder die Egiptenare gedoen het (v.24, 2 Kon.19:6, Eks.2:11, 23).

 

‘n Kort tydjie na Assirië se aanval op Jerusalem, het die Here hom vernietig (v.25).  So het die eens magtige wêreldryk tot ‘n val gekom, sodat daar vandag minder Assiriërs is as Afrikaners.  Soos wat hy ‘n roede teen Israel was (v.24), sou die Here ‘n sweep teen hom gewees het (v.26, 37:36-38).  God sou hom getref het soos wat Hy in Gideon se tyd die Midianiete getref het (v.26, 9:3, Rgt.7:25).  Die Here sou sy staf oor Assirië gelig het soos Hy dit by die Rooi See oor Egipte gelig het (v.26).

 

Daarna sou Assirië se slawejuk nie meer op Jerusalem se nek en skouers gewees het nie (v.27, 9:3, 2 Kon.18:14, Nah.1:13).  Wat beteken v.27 as dit sê dat die juk a.g.v. die vettigheid vernietig sal word?  Die Hebreeuse woord [shemen] verwys na die salfolie waarmee Israel se konings gesalf is.  Die juk sou dus gebreek word, omdat God ‘n verbond met Dawid en sy nageslag gemaak het (2 Sm.7:14).  Assirië kon dit daarom nie regkry om vir Israel te sink nie.

 

Hy het wel die kleiner dorpies in Juda vernietig, en was van daar af oppad om teen Jerusalem te veg (v.28-32).  Die dorpies wat gelys word is ‘n paar kilometer van Jerusalem af.  Hulle was bang en het na Jerusalem toe gevlug.  Die Assiriërs was oppad om teen Juda se hoofstad (Jerusalem) te veg.  Hulle het egter 2 km van Jerusalem af by ‘n dorp genaamd Nob gehalt (v.32).  Assirië het sy vuis vir Jerusalem gewys, maar God het hom gekeer om teen haar te veg (v.32).

 

Assirië was ‘n byl in die Here se hand (v.15).  Die Here het egter die situasie omgekeer en met almagtige houe die reuse en hoogmoedige boom van Assirië afgekap (v.33, 2:11-13, 17).  Met ‘n geweldige slag sou die boom aarde toe gekom het (Esg.31, 17:24, Dn.4).  Met sy byl het God die boom en die hele bos se takke afgekap (v.34, 18, kontr. v.15).  Babilon was die nuwe byl wat Hy gebruik het om hierdie majestieuse en magtige seder van Lebanon – Assirië – af te kap (v.34, Esg.31).

 

Hoe moet ons hierdie gedeelte toepas?  Vandag is daar bittermin Jode wat in die sterke God van v.21 en 9:5 glo (Rm.9:27-28, 11:5), maar in die toekoms sal baie van hulle tot bekering kom (Rm.11:25-26).  Onthou dat die Jode se bekering groot seën vir die wêreld sal beteken, en dat baie heidene as gevolg daarvan gered sal word (Rm.11:12, 15).

 

Moet dan nie nalaat om vir hulle bekering te bid nie.  ‘n Skotse prediker in die 1600’s het gesê:  ‘They forget a main point of the Church’s glory, who pray not daily for the conversion of the Jews.’[1]  Ek bedoel nie dat ons nie ernstig vir die redding van al die nasies moet bid nie, maar eerder dat ons nie van Israel moet vergeet nie.

 

Nog ‘n les is dat ons nie die vyand hoef te vrees nie (v.24).  Hy mag miskien sterker as ons wees, maar Hy is nie sterker as die Here nie.  God sal hom met ‘n almagtige slag tref en finaal tot ‘n einde bring.

 

Wat Hy in v.24-34 met die Assiriërs gedoen het, sal Hy met elke arrogante regering doen.  Soos groot bome sal Hy hulle afkap.  Die boom van sy Koninkryk sal die grootste wees (Dn.2, Mt.13:31-32).  En wat Hy met die Koninkryke van hierdie wêreld gedoen het, sal Hy ook met Satan en die koninkryk van duisternis doen.

 

Dit help nie dat enige vyand sy of haar vuis teen Jesus en sy kerk lig nie (v.32, Mt.16:18).  Jy kan dan moed skep en weet dat die Here nooit een van sy kinders sal laat val nie.  Niks kan ons van sy liefde skei nie, en niemand kan ons uit sy hand uit ruk nie (Jh.10:28-29, Rm.8:38-39).  Hy het die goeie werk van verlossing in jou begin, en sal dit voltooi tot op die dag wanneer Jesus terugkeer (Fil.1:6).

 

As God aan jou kant is, is sy byl nie gevaarlik nie.  Ek bedoel nie dat dit nooit met jou sal sleg gaan nie, maar dat Hy selfs die beproewing waardeur jy op die oomblik gaan tot jou voordeel sal gebruik.  Sy byl sal vir jou ‘n operasiemes wees wat die kanker van sonde uitsny, en nie ‘n voorwerp van verwoesting nie.

 

[1] Robert Leighton aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, p.75

Die boek wat die wêreld verander het

bible-and-key

Die topverkoper-boeke in die geskiedenis sluit onder meer boeke soos die volgende in: A Tale of Two Cities deur Charles Dickens, J.K. Rowling se Harry Potter reeks en The Hobbit deur J.R.R. Tolkien.  Nie een van hulle kom egter naby die Bybel nie wat meer as 5 biljoen kopieë verkoop het nie.  En dan praat ons nie eers van die sagte kopieë op mense se rekenaars, tablette en selfone nie.  Ons tel ook nie die Bybels wat by die tienduisende in die geskiedenis verbrand is nie.

 

Geen ander boek word so gevrees en gehaat nie. Geen boek is lewend en kragtig om deur die werking van die Heilige Gees mense se harte en lewens te verander nie (Heb.4:12).  Geen boek het al ooit so ‘n groot invloed op die geskiedenis van koninkryke, lande en nasies gehad nie.  En dis presies wat die die Here in Op.10 voorspel het.

 

Die engel (v.1-7)

Jan is ‘n biljoenêr. In sy testament staan daar dat sy vrou Riana die geld moet erf wanneer hy doodgaan.  Ongelukkig het sy egbreuk gepleeg en hom vir iemand anders gelos.  Hy het toe met Karen getrou en ‘n ander testament opgestel om te sê dat sý alles moet erf.  Hy het egter vergeet om in die hersiende testament te sê dat hy die vorige een herroep het.  Ná sy dood was daar groot ‘n verwarring.  Riana en Karen het daarop aanspraak gemaak dat die geld hulle s’n is.  Dit was ‘n gemors.

 

Om só ‘n gemors te vermy het die Here eers sy testament met die Jode tot niet gemaak, sodat die testament wat Hy met die kerk gemaak het vas sou wees (Heb.7:12, 8:13, 10:9, 11-12). Die eerste testament met sy tempel, priesterdom en offersisteem moes vernietig word alvorens die Here die nuwe tempel met sy priesterdom en geestelike offers effektief kon bou (1 Pt.2:5, 9).  Dit is eintlik waaroor Op.10 gaan.

 

In hfst.8-9 was daar ses engele wat elkeen op ‘n trompet geblaas het om God se oordele aan te kondig. Voordat die sewende engel in 11:15 op sý trompet geblaas het, het Johannes nog ‘n magtige engel gesien (v.1).  Uit sy beskrywing lyk dit of hierdie engel Eks.3:2 se Engel van die Here is, wat in die brandende bos aan Moses verskyn het.  Ja, die engel of boodskapper [Gk. aggelos] van Op.10:1 was die Here self.  ‘n Vergelyking met die res van die Bybel wys dit vir ons.

 

Hy het in ‘n wolk uit die hemel uit neergedaal, en bene gehad soos kolomme van vuur (v.1, vgl. 1:15, Eks.13:21-22, Dn.10:6). Daar was ‘n reënboog bo sy kop (v.1, vgl. 4:3, Esg.1:26-28).  Sy gesig het soos die son geskyn (v.1, vgl. 1:16, Mt.17:2, Dn.10:6).  Hy het ‘n boekrol in sy hand gehad (v.2, vgl. 5:7).  Die boekrol was oop (v.2, vgl. 5:3-5).  Sy stem het geklink soos ‘n leeu wat brul (v.3, vgl. 5:5, Am.3:8, Hos.11:10).  Dit was soos sewe donderslae (v.3, vgl. Ps.29, Job 37:1-5).  Hy het ‘n boekrol vir Johannes gegee (v.8-10, vgl. Esg.3:1-3).  Soek maar gerus die verwysings op om te sien dat die Engel in Op.10 die Here self is.

 

Wat beteken al hierdie dinge? Die boekrol in sy hand was klein om te wys dat daar nie baie oor was wat vervul moes word nie; die tyd was naby (v.2, 6).  Die boekrol was oop, omdat Hy die seëls gebreek het, sodat die inhoud daarvan vervul kon word (v.2, 6:1-17, 8:1).  Die boekrol was eintlik ‘n testament wat gesê het dat Jesus die erfgenaam van die Koninkryk was; Hy sou die nasies as sy erfdeel verkry het (11:15, Ps.2:8).  Sy voete op die see en die land bevestig dit (v.2, Mt.28:18, Ef.1:22).  Die land en die see is hier ook simbolies van Israel in die Beloofde Land, en die heidene oorkant die see (17:15, Ps.65:8, Jes.17:12-13).  Jesus besit beide.

 

Die sewe donderslae het die storm van God se oordeel oor sy vyande aangekondig (v.3-4). Die Here het vir Johannes gesê om nie die inhoud daarvan neer te skryf nie, maar om dit te verseël (v.4).  Anders as die res van Openbaring, was hierdie dinge nie vir die nabye toekoms bedoel nie (v.6, 1:1, 3, 22:10), maar vir die verre toekoms (v.4, vgl. Dn.8:26, 12:4, 9).  God het besluit dat dit nie vir die kerk nodig was om hierdie dinge te weet nie (Dt.29:29).

 

Die Engel het sy regterhand na die hemel toe uitgestrek en ‘n eed gesweer by Hom wat ewig lewe en alles gemaak het (v.5-6). ‘Kan hierdie Engel dan regtig die Here wees?’ wonder party mense.  Ja.  In Dt.32:40-41 sê die Here:  “Want Ek sal my hand na die hemel ophef en sê:  So waar as Ek ewig leef – as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde.” (sien ook hoe die Here in Heb.6:13-18 by Homself sweer).

 

Wat het die Engel gesweer? God sou nie langer sy oordele oor die kerk se Joodse vervolgers uitgestel het nie (v.6, 6:10-11, Hab.2:3).  Die tyd vir die sewende engel om met trompetgeskal die verwoesting van die tempel aan te kondig was ryp (v.7, 11:1-2, 15, 17-18).  Dis wat die Engel in v.7 met die vervulling van God se geheimenis bedoel het.  Die geheimenis was dat die Here nie meer net die God van die Jode was nie, maar van die Jode en die heidene wat in Jesus glo (v.11, 11:15, Rm.11:25, 16:25-26, Ef.3:3-9, 2:11-22, Kol.1:26-27, Mt.10:5-6, 15:24, 28:19).  Om sy nuwe tempel te bou moes Hy eers die ou een verwoes het.  God het die bou van sy nuwe tempel deur die profete voorspel (v.7, Sg.6:12-13, 15).

 

Die boekrol (v.8-11)

Ek het nog net eenkeer in my lewe ‘n heuningkoek geëet. Ek het nie geweet dat ‘n mens die was moet uitspoeg nie.  Ek het dit ingesluk en ‘n verskriklike maagpyn gekry.  Die heuningkoek was soet in my mond, maar bitter in my maag.

 

En dit is hoe die Woord van God vir Esegiël en Johannes was: soet in die mond, maar bitter in die maag (v.8-10, Esg.3:1-3, 14, Ps.19:11, 119:103).  Wat beteken dit?  Dit was vir hulle ‘n vreugde en ‘n voorreg om die Woord van God te verkondig (Jer.15:16).  Hulle droefheid oor die Jode se sonde was egter soos die bitter pyn op iemand se maag as hy te veel groen perskes geëet het (Jer.15:17).

 

Esegiël het die verwoesting van Jerusalem in 586 v.C. deur die Babiloniërs voorspel, terwyl Johannes die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeine voorspel het. As Esegiël sy boodskap aan die heidene verkondig het, sou hulle geluister het (Esg.3:5-6).  Maar die hardkoppige Jode was nie bereid om na hom te luister nie (Esg.3:7).  So was dit ook in die Nuwe Testament:  die Jode wou nie na God se Woord geluister het nie, en dus het Hy sy boodskappers na die heidene toe gestuur (v.11, 5:9, 7:9, 11:15, Mt.21:43, Hd.13:45-48, 18:5-6, 28:28).

 

Ek het reeds geïmpliseer dat die boek wat Johannes geëet het, die evangelie van die Nuwe Testament was. Dít is die boek wat die wêreld verander het, en nogsteeds besig is om dit te doen.  Soos ek nou-net gewys het, was Israel se ongehoorsaamheid grootliks verantwoordelik hiervoor.  Paulus onderstreep dit:  “Ek vra dan:  Het [Israel] miskien gestruikel om te val?  Nee, stellig nie!  Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom” (Rm.11:12).

 

My en jou bekering is die direkte gevolg van die Jode se ongehoorsaamheid: die evangelie het van hulle af weggedraai na ons toe.  Alhoewel dit nie hulle ongehoorsaamheid verskoon nie, het daar deur hulle verwerping en verharding redding vir die wêreld gekom (Rm.11:12, 15, 25).  Dit is ook die boodskap van Op.10.

 

As die Jode se verwerping dan soveel seën vir die wêreld beteken het, sal hulle bekering in die toekoms sekerlik ‘n herlewing ontketen wat soos ‘n onblusbare vuur oor die aarde versprei.  Is dit nie miskien wat Paulus in Rm.11:12, 15 bedoel het nie?

 

“En as [die Jode se] val die rykdom van die wêreld is en hulle [mislukking] die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! … Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?”

 

En het Jesaja nie gesê “die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” nie (Jes.11:9)?

 

Ons gebede is gans te klein. Wanneer ons bid dink ons net aan vandag, ons eie probleme, en die era waarin ons lewe.  Ons bid selde vir die verspreiding van die evangelie in die wêreld en vir die redding van die geslagte wat nog gebore moet word.  En tog is dit hoe Jesus wil hê ons moet bid:  “laat u koninkryk kom” (Mt.6:10).

 

Ons dink nie genoeg daaraan dat die volgende geslag partykeer eers die vrugte pluk van dit wat ons in gebed gesaai het nie.  William Tyndale is ‘n goeie voorbeeld hiervan.  Hy was verbied om die Bybel in Engels te vertaal, en het met sy lewe geboet.  Sy laaste woorde op die brandstapel was:  ‘Lord, open the king of England’s eyes!’  Die eindste koning Henry VIII wat toegelaat het dat hy verbrand word, het later toestemming gegee dat die Engelse Bybel verkoop en versprei mag word.[1]  Vandag nog eet mense die soet vrugte van Tyndale se vertalingswerk en gebede.

 

Ek wil jou aanspoor om soos hy te bid. Bid vir die verspreiding van die evangelie in ons land.  Bid dat die kerk ‘n effek in die samelewing sal hê.  Bid vir ons regering, sodat ons rustig mag lewe en nie verhinder sal word om die Here te dien nie (1 Tm.2:1-2).  Bid dat jou kinders, kleinkinders en die geslagte wat kom die Here mag ken.

 

Bid dat God se Koninkryk tot aan die eindes van die aarde sal strek: “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Ps.72:8).  Bid dat die Here evangelie-predikers sal opwek en uitstuur (Mt.9:38).  Bid dat die evangelie nie sal uitsterf soos die renosters nie.  Dit kan tog nie gebeur nie.  Jesus se woorde was:  “Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Mt.16:18).

 

Bid dat die Heilige Gees ‘n werk van herlewing sal doen in ons gemeente, land en wêreld. Bid dat Hy ons harte sal deurdrenk soos na ‘n goeie reënbui in die lente.  “Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê:  Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.  Daarom sê Ek vir julle:  Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” (Mk.11:23-24).

 

Ek dink nie Jesus sê letterlik ons moet bid vir die Drakensberge om in die see te spring nie. Dit gaan hier oor die vordering van sy werk.  “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.  Wie is jy, groot berg?  Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word!” (Sg.4:6-7).

 

Ek glo dat Bybelse Christenskap uiteindelik die oorheersende godsdiens in die wêreld sal wees. Jesus en die evangelie sal suksesvol wees.  Charles Spurgeon het gesê:  ‘Oh!  Spirit of God, bring back thy Church to a belief in the gospel! … The Gospel must succeed; it shall succeed; it cannot be prevented from succeeding; a multitude that no man can number must be saved.’[2]

 

Toe Jesus op die aarde was het Hy net ‘n handjievol dissipels gehad. Maar dit het nie so gebly nie.  Die piepklein mosterdsaadjie van die Koninkryk is besig om te groei, sodat dit uiteindelik groter sal wees as enige plant in die tuin van die wêreld (Mt.13:31-32).  William Carey het gesê:  ‘[Christ] must reign, till Satan has not an inch of territory.’[3]

 

Die rots van Christus se Koninkryk het alreeds die magtigste wêreldryke verpletter. Waar is die Babiloniërs?  Waar is die Meders en die Perse?  Waar is Aleksander die Grote?  Waar is die Romeine met hulle keisers?  Hulle het verdwyn soos stof wat deur die wind weggewaai word (Dn.2:35).  Maar Christus se Koninkryk sal groei, sodat dit ‘n berg word wat die hele aarde vul (Dn.2:35, 44-45).

 

Moenie pessimisties wees oor die evangelie nie. Die Heilige Gees het dit op verskillende tye in die kerk se geskiedenis gebruik om lande en kontinente om te keer:  Paulus en die twaalf apostels in die eerste eeu, die Kerkvaders in die eeue wat daarop gevolg het, Luther, Calvyn, Latimer, Tyndale, Knox, Zwingli en ander in die 14de eeu, die Puriteine in die 15de eeu, Whitefield, Wesley en Jonathan Edwards in die 1700’s, Spurgeon in die eeu ná hulle.

 

Hoekom het lande soos Engeland, Amerika en selfs Suid-Afrika vir eeue lank voorspoed en sukses geniet? In sy boek How Christianity Changed the World het Alvin Schmidt onteenseglik bewys dat dit die evangelie was wat die wêreld verander het.  Ek glo dat die klein boekrol van Op.10 in die toekoms nog die wêreld sal verander.

 

Maar vir nou moet ek vra of die Heilige Gees al jou hart deur hierdie boek verander het?  Het die evangelie van Jesus se kruisdood vir sondaars enigsins ‘n verskil gemaak in die manier waarop jy vroue behandel, ander mense in ag neem sodat jy hulle besittings, seksuele reinheid en lewens respekteer?  Het dit ‘n verskil gemaak in hoe jy jou vrou liefhet, jou man respekteer, jou kinders grootmaak, jou ouers gehoorsaam, jou baas en onderwyser eer sodat jy jou werk goed doen?

 

Hoe het dit jou gesindheid teenoor ou mense en kinders, die siekes en die armes beïnvloed? Het dit die manier verander hoe jy dink oor geld en vermaaklikheid en ontspanning?  Watse verskil het dit gemaak in jou houding teenoor die regte van die ongeborenes?  Laat hierdie boek so deel word van jou soos die kos wat jy eet.  Lees dit biddend en met ‘n verwagting dat die Here jou hierdeur sal verander.

 

[1] J.H. Merle D’Aubigné, The Reformation in England, pp.347-349

[2] Aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, p.238

[3] Ibid, p.141

Wanneer God se volk Hom verwerp

Talk to the hand

As die Here wil begin ek volgende week ‘n reeks in Openbaring. ‘n Algemene fout wat mense maak wanneer hulle die boek interpreteer, is om te maak asof dit niks te doen het met die Christene wat in Johannes se tyd geleef het nie.  Hulle dink dit het te doen met Rusland, masjien gewere en die Verenigde Nasies.  Maar eintlik is daar baie verse in die boek wat te doen het met God se oordeel oor Israel, omdat hulle hulle Messias verwerp het en Hom gekruisig het.

 

Jh.5:1-18 is maar net die buitelyne van ‘n prentjie wat later met hulle bebloede hande ingekleur sou word. Laat ons dan hierdie waarskuwing ter harte neem en nie dink dat ons staan nie, want anders sal ons net soos hulle val.

 

Die man se genesing (v.1-9a)

In 2007 het ek ‘n sendeling in Taiwan besoek. Op ‘n dag het een van die sendelinge my na ‘n natuurlike warmwater bron toe gevat.  Die baddens ontspring uit ‘n vulkaniese berg.  By die fonteine is die water 100°C.  Dit vloei dan vir ‘n kilometer of twee, totdat dit groot baddens vorm waarin ‘n mens kan sit.  Volgens die land se mense is die water goed vir arthritis en baie ander kwale.  Volgens argeoloë is dit moontlik dat die bad van Bethesda in Jerusalem só ‘n waterbron met genesende eienskappe was.  En dit is hiér wat die genesing van die lam man afspeel.

 

Nadat Jesus die amptenaar se seun in Galilea genees het, het Hy teruggegaan Jerusalem toe. Hy was daar vir een van die Joodse Feeste (v.1, Dt.16:16).  Hy was by die Skaapspoort waarvan ons in Neh.3:1, 32 lees (v.2).  Geleerdes meen dat hierdie poort direk met die tempel verbind was, en dat die skape wat vir die offers bedoel was deur hierdie poort gekom het.

 

Die bad van Betesda of ‘huis van genade’ was hier en het gestaan onder ‘n dak wat deur vyf pilaargange ondersteun is (v.2). Tussen die rye pilare was daar talle verlamdes, gebreklikes en blindes (v.3).  Sommige manuskripte sê dat die mense “op die roering van die water gewag het.  Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer.  Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.” (v.4, OAV).  Hierdie vers kom egter nie in die beste manuskripte voor nie.

 

Maar dit mag wees dat die minerale in hierdie bad genesende eienskappe gehad het, en dat die roering in v.7 deur die opborreling van ‘n fontein veroorsaak is.[1]  Dit mag wees dat die Jode in hierdie verse regtig geglo het dat ‘n engel die water roer, sodat die persoon wat eerste in die bad geklim het genees is (vgl. 2 Kon.5:10, 14).

 

Een van die mense wat langs die bad gelê het was al vir 38 jaar bedlêend (v.5, 8). Menslik was daar nie hoop dat hy genees kon word nie.  Tog het Jesus nie soos die res verby hom geloop nie – Hy het hom daar sien lê; Hy was sensitief vir mense se lyding (v.6).  Omdat Hy God is het Hy geweet dat die man al vir ‘n lang tyd siek was, dat hy gereeld by die bad was, en dat hy graag genees wou word (v.6).  “Wil jy gesond word?” het Hy vir hom gevra.

 

Die siek man het iemand nodig gehad om hom in die bad te sit (v.7). Hy het eintlik by Jesus geskimp om hom in die bad te sit wanneer die water opborrel.  Hy het nie geweet dat Jesus hom wou of kon genees het nie (v.7, 13).  Jesus het vir hom gesê om op te staan, sy bedmatjie op te tel, en te loop (v.8, vgl. Mt.9:6-7).  Die man het nie gesê:  ‘Ek kan nie loop nie,’ maar het gedoen wat Jesus beveel het (v.9a).  Na 38 jaar is hy sonder rehabilitasie of terapie onmiddellik genees.  Hierdie wonderwerk het weereens bewys dat Jesus die Messias en die Seun van God is (20:30-31), dat Hy almagtig en soewerein is om te genees.

 

Die Jode se teenkanting (v.9b-18)

Die Mishna is Joodse oorlewerings, tradies en wette wat later by die eerste vyf boeke van die Bybel bygevoeg is. In teorie het hulle dit nie as Skrif aanvaar nie, maar in die praktyk het hulle dit tot op die vlak van die Skrif verhef.  Dit is presies wat Jesus in Mt.15:6 vir hulle gesê het:  “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.”  Hulle het dit o.a. gedoen wanneer dit by die Sabbat kom.  Hulle het 39 wette gehad waarin hulle duidelik uitgespel het watse aktiwiteite ‘n mens op die Sabbat mag doen en wat nie.

 

Hulle het byvoorbeeld gesê dat ‘n mens nie op die Sabbat asyn op jou tande mag sit om ‘n tandpyn weg te vat nie. Jy mag egter die asyn op jou kos sit.  As die asyn dán jou tandpyn wegvat is dit toelaatbaar, omdat dit toevallig was (Shab.14:4).  Op die Sabbat mag jy wyn en olie vate by jou naaste leen.  Jy mag net nie vra om dit te leen nie, omdat dit ‘n transaksie is.  ‘n Transaksie vereis dat jy moet skryf, en om te skryf is werk (Shab.23:1).[2]

 

Vir die Jode was gehoorsaamheid aan hierdie wette belangriker as ander mense se voordeel. Hulle wettiesisme het hulle liefdeloos, koud en hart gemaak – nie net teenoor hulle naaste nie, maar ook teenoor hulle Messias en hulle God.

 

Die dag waarop Jesus die man gesond gemaak het was ‘n Sabbat (v.9b, vgl. 7:23, 9:14, Lk.13:14). God het nie die Sabbat gegee om mense met swaar reëls en wette te belas nie, maar sodat die mens sy batterye kon herlaai:  geestelik, fisies, sosiaal, intellektueel, en emosioneel.  “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.” (Mk.2:27).  Jesus het dit nie as werk beskou om mense te help nie, maar as ‘n daad van liefde.

 

Maar volgens die Jode was dit onwettig vir die man om sy bedmatjie op die Sabbatdag rond te dra (v.10). Hulle kon nie gesê het dat hulle dit uit Jer.17:21-22 gekry het nie, omdat die man nie ‘n swaar las gedra het nie:  “So spreek die HERE:  Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die sabbatdag en dit inbring deur die poorte van Jerusalem nie.  Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het.”

 

Die man het vir die Jode gesê: ‘Die man wat my gesond gemaak het, het gesê ek moet my bed optel en loop’ (v.11).  ‘Wie is die man wat vir jou gesê het om met jou bedmatjie rond te loop?’ het hulle gevra (v.12).  Die genesing het hulle glad nie beïndruk nie.  Al waarin hulle vasgekyk het was dat hy die tradisies van hulle voorvaders oortree het.  Hulle het nie daarin belanggestel om vir Jesus te aanbid nie, maar om Hom te vervolg (v.18).

 

Die man het nie geweet waar of wie Jesus was nie (v.13). ‘n Tydjie later het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê:  “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (v.14).  Was die man siek was a.g.v. van een of ander sonde wat hy gedoen het (kontr. 9:1-3)?  Of het Jesus bedoel dat die man besig was met sonde, omdat hy Hom aan die Jode wou oorlewer?  En wat is die ‘erger’ ding wat sou gebeur het as hy met sy sonde aangehou het?  Dit mag wees dat hy sieker sou geword het as voorheen.  Maar meer waarskynlik bedoel Jesus dat hy in die hel sou beland het.  Dit is hartseer dat die man wat genees is nie in Jesus geglo het nie.  Dalk was hy ‘n prentjie van Israel wat die Seun van God se wonderwerke gesien het, maar nie in Hom geglo het nie (2:23-25).

 

Die man het nie vir Jesus geluister nie, maar het dadelik vir die Jode gaan sê dat dit Jesus was wat hom genees het (v.15).  Hy het homself oortuig dat daar nie iets erger met hom sou gebeur het nie.  Toe die Jode gehoor het dat dit Jesus was wat hom genees het, het hulle Hom aanhoudend vervolg (v.16, Gk.).  Die feit dat hulle Hom vir ‘n goeie daad vervolg het, wys iets van die hardheid van hulle harte (10:32).

 

‘Ek en my Vader het ons skeppingswerk op die sewende dag voltooi, maar dit beteken nie dat Ons nie nogsteeds besig is om te werk nie. Ons onderhou elke hartklop, gee kos vir die kraaie, en sorg dat die aarde om sy eie as draai.’  Dit is basies wat Jesus met v.17 bedoel het (Heb.1:3, Kol.1:17).  Daarom was dit nie verkeerd vir Jesus – die Here van die Sabbat (Mk.2:28) – om hierdie man op die Sabbat te genees nie.  Hy was net besig om die skepping onderhou.

 

Toe die Jode dit gehoor het was hulle woedend, en wou hulle Hom doodmaak (v.18, 7:1, 10:33, 36). In hulle oë het Hy die Sabbat ‘gebreek’ en Homself op ‘n gelyke vlak met God gestel, omdat Hy Hom sy eie Vader genoem het (v.18).  Volgens 19:7 is dít hoekom hulle Hom gekruisig het:  “Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.”  Die ironie is dat hulle reg was:  Hy was in elke opsig met die Vader gelyk (v.19-29, 20:28, Fil.2:6, Kol.2:9, Heb.1:3).

 

Moenie die voorregte van die evangelie gering ag nie. Moenie soos Israel wees en die Here verwerp nie.  Lees jy jou Bybel?  Gebruik jy die vryheid wat die Here vir jou gegee het om met mense die evangelie te deel?  Speel die kerk ‘n sentrale rol in jou lewe, of is dit vir jou ‘n bysaak?  Vertel jy daagliks vir jou kinders van die groot dinge wat die Here gedoen het?  Is gebed en die samekoms van die gelowiges iets waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

 

As ons nie die voorregte gebruik wat die Here vir ons gee nie, sal Hy dit van ons af wegvat sodat ons soos Israel word. Hulle lees elke Saterdag die Ou Testament, maar verstaan dit nie (2 Kor.3:14-15).  Omdat hulle hulle oë en ore vir die waarheid toegesluit het en die Messias verwerp het, het God hulle verblind en hulle ore doof gemaak sodat hulle dit nie kán glo nie (12:39-40).

 

Sal dit nie aaklig wees as die Woord en gebed in skole verbied word nie? Wat as die regering besluit om kerke toe te maak, Bybels te brand, Christelike boekwinkels te sluit, en prediking te verban; as daar ‘n hongersnood kom om die woorde van die Here te hoor (Am.8:11)?  Of wat as ons nog die kerk en die Bybel het, maar ons nie meer die Here se teenwoordigheid ervaar nie, omdat ons ons eerste liefde verlaat het, of omdat ons geestelik lou geword het (Op.2:4-5, 3:15-16)?  Hoe moet dit wees as jy vas en bid, maar die Here jou nie antwoord nie, omdat jy jou ore toegestop het toe Hy met jou gepraat het (Sg.7:13, Jes.58:3, Sp.1:28)?

 

Dalk sê jy: ‘Ons leef nie meer in die Ou Testament nie, maar is deel van die Nuwe Testamentiese kerk.  Ons kan nie die Here verwerp soos wat Israel gedoen het nie, en Hy sal ons ook nooit verwerp nie.’  Jy is reg om te sê dat die Here nooit sy uitverkorenes sal verwerp nie.  Hy sal selfs uiteindelik die Jode herstel en tot geloof in sy Seun bring (Rm.11:1-2, 23, 25-26, 28-29).  Dit beteken egter nie dat almal wat op die kerk se lederol is, gered is nie.  ‘n Tak wat nie vrugte dra nie word afgesny en in die vuur gegooi (vgl. 15:6).  Paulus waarsku in Rm.11:20-22:

 

“Deur ongeloof is hulle [Israel soos ‘n olyfboom se takke] afgebreek, maar jy [‘n heiden wat met die gemeente assosieer] staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.  Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.  Let dan op die goedertierenheid en die strengheid van God:  strengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.”

 

Jesus sal nie sy skape weggooi nie, maar dit is baie moontlik dat Hy ‘n plaaslike gemeente se deure kan sluit, omdat hulle ontrou geword het (Op.2-3). Laat ons dan nie ons voorregte vanselfsprekend neem, sodat ons begin om dit af te skeep nie, maar laat ons luister na wat die Here vir ons wil sê:  “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie… hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam…?’ (Heb.2:1, 3).

 

Dalk dink jy nogsteeds dat jy nie soos die Jode die Here sal verwerp nie, en dat hierdie preek nie regtig op jou van toepassing is nie. Onthou dat afvalligheid nie in ‘n dag gebeur nie.  Jou gewete pla jou, maar jy sê vir jouself dat dit net ‘n klein dingetjie is.  Die kompromie wat jy met sonde aangaan is nie groot nie.  En so beweeg jy treetjie vir treetjie van die Here af weg.  Voordat jy jouself kry lê jy saam met iemand anders se huweliksmaat in ‘n bed, of doen jy dinge wat niemand van jou verwag het nie.  En dan kyk jy vir jouself in die spieël en jy sê:  ‘Ek glo in elk geval nie meer in God en die Bybel nie.’

 

Ek wil jou vra om nie slap te lê of op te gee in hierdie wedloop nie. Byt vas en volhard enduit.  “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Heb.10:24-25).

 

[1] Leon Morris, The Gospel According to John, p.302

[2] Aangehaal in Ibid, p.305 n.25

Wat sal jy met die evangelie doen?

Hand stretched out

Joel Beeke is ‘n predikant in Amerika.  Kort na hy by ‘n nuwe gemeente begin het, het hy sy vriend Ernest Reisinger, besoek.  ‘Ek weet nie wat om te doen nie,’ het Beeke gesê.  ‘Niemand in die gemeente staan neutraal teenoor my nie.  ‘n Paar mense is mal oor my en die res haat my.’  Reisinger het sy hand op Beeke se bo-been geklap:  ‘Dis wonderlik!’ het hy gesê, ‘dit beteken jy is besig om deur te dring!’  Presies dít is wat die evangelie vereis:  wees lief daarvoor en verdedig dit, of haat en verwerp dit.  Handelinge 28:17-31 illustreer dit.

 

Paulus verdedig die evangelie (v.17-23)

In 1988 het John MacArthur The Gospel According to Jesus geskryf.  Die boek was ‘n poging om die oppervlakkige evangelie van die Amerikaanse kerk reg te stel.  Baie predikers en teoloë het gesê dat Jesus jou Verlosser kan wees sonder dat Hy jou Here is:  jy kan gered wees sonder dat jou hart verander is; in sonde volhard en nogsteeds oppad wees hemel toe.  MacArthur wou dié dwaling regstel.  Toe die boek sy verskyning maak, het baie dit aangeval.  Baie jare later het MacArthur in ‘n onderhoud met Iain Murray gesê:  ‘I never dreamed that I would spend a great deal of my ministry protecting the gospel from evangelicals.’ (vry aanhaling).  Dis tragies dat Paulus die evangelie teen God se volk Israel moes verdedig.

 

Toe Paulus in Rome kom het hy die Joose leiers na hom toe geroep.  Volgens gewoonte het hy die evangelie eerste aan die Jode verkondig (Romeine 1:16).  Hy het aangeneem dat die Jerusalem-Jode se klagtes teen hom hulle ore bereik het, en wou dit regstel.  ‘Die hof het my onskuldig bevind,’ het hy gesê.  ‘Omdat die Jode beswaar aangeteken het móés ek my op die keiser beroep – ek het nie ‘n ander keuse gehad nie.  Ek is nie hier omdat ek iets teen my volk het nie, maar omdat hulle iets teen mý het.  Ek het geen begeerte om wraak te neem nie.  Die ware rede hoekom ek in boeie is, is omdat ek die hoop van Israel – die Messias en die opstanding van die liggaam – verwag.’[1]

 

Wou Paulus homself verdedig?  Of het hy opgestaan vir die evangelie?  Die Jode het vir hom gesê:  “Ons het geen briewe oor u van Judéa ontvang nie; ook het niemand van die broeders hier aangekom en iets slegs van u berig of gepraat nie.  Maar ons verlang om van u te hoor wat u dink; want wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word.” (v.21-22, vgl. 24:5).  Paulus se lewe was rein.  “en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” (1 Petrus 2:12).

 

Paulus het met die Jode afgespreek om op ‘n sekere dag na hom toe te kom. Hulle het in groot getalle opgedaag.  Van die môre tot die aand het hy die evangelie van die Koninkryk verkondig en uit die Wet en Profete bewys dat Jesus die Messias is.[2]

 

Moenie met jou hande in jou sakke staan en toekyk hoe mense die evangelie aanval nie.  Doen iets; verdedig dit!  Hoe moet jy dit doen?  Jy kan nie lojaal wees aan ‘n evangelie waaraan jy geen waarde heg nie.  Eers as jy vir jouself gesmaak het dat die evangelie goed is, sal jy dit verdedig.  Sorg dat jy die feite van die evangelie ken, sodat jy dit kan verdedig.  Kry Galasiërs onder die knie en memoriseer Paulus se opsomming van die evangelie in 1 Korintiërs 15:3-4:  “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte”.

 

Beskerm die evangelie teen evolusie.  Evolusie sê dat dood voor sonde in die wêreld was; dat dood nie ‘n straf op die mens se sonde is nie.  Dit peuter met die evangelie:  was Jesus se dood God se straf op ons sonde of nie?  Veg om die evangelie teen liberale teologie te beskerm.  Liberale teoloë ontken Jesus se dood in ons plek[3] en sy liggaamlike opstanding uit die dood.  Verdedig die evangelie teen TBN se Prosperity predikers en hulle volgelinge.  Dié mense sê dat Jesus aarde toe gekom het sodat ons ryk, voorspoedig en gesond kan wees.  Vir hulle gaan die goeie nuus oor geld en nie oor die vergifnis van sonde nie.  Beskerm die evangelie teen kultusse; teen dié wat ‘n ander Jesus verkondig.  Dié groepe sê ons gaan hemel toe as ons in Jesus glo plus sekere reëls volg.  Hulle verwerp die evangelie van verlossing uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen.  Moenie bang wees om op te staan by die werk, skool en in jou familie nie.  Moet ook nie bang wees as jou opponent slim argumente en antwoorde het nie.  God is aan jóú kant.  Die meeste mense wat die evangelie verwerp het dit nog nooit vir hulleself getoets nie, maar verwerp dit op grond van ander se getuienis (v.22).

 

As jy die evangelie verdedig moet jy nie net jou opponente se valsheid uitwys of aanspreek nie.  Bevorder ook die waarheid.  Jou krag om ander te oortuig lê nie daarin dat jy ander weerlê nie, maar in die evangelie self:  dít is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo.[4]

 

Hoekom is dit belangrik om die evangelie te verdedig?  Jesus antwoord:  “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.  Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 10:32-33).

 

Die Jode verwerp die evangelie (v.24-31)

Adolf Hitler was ‘n Duitse diktator.  Hoe het mense teenoor sy diktatorskap gereageer?  Dink jy enigiemand het ‘n traak-my-nie-agtige houding ingeneem?  Die wêreld het hom, òf gehaat en teëgestaan (soos Engeland en Amerika), òf hulle lojaliteit aan hom bewys (soos Italië en Japan).  So is dit met Jesus en die evangelie:  jy moet Hom haat of liefhê.  Jy kan nie onpartydig wees of Hom ignoreer nie.  As jy nie vir Hom is nie is jy teen Hom.[5]

 

Toe Paulus klaar gepreek het was daar twee reaksies:  “sommige het geglo wat gesê is, maar ander het ongelowig gebly.” (v.24).  Hoekom het party geglo en ander nie?  In v.25-27 antwoord Paulus uit Jesaja 6:9-10:

 

“Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek en gesê:

‘Gaan na hierdie volk en sê:

Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie,

en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

Want die hart van hierdie volk het stomp geword,

en met die ore het hulle beswaarlik gehoor,

en hulle oë het hulle toegesluit,

sodat hulle nie miskien met die oë sou sien

en met die ore hoor

en met die hart verstaan

en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.’”

 

Met ander woorde, hulle het hulle harte verhard.  Daarom het God ook hulle harte verhard en die evangelie van hulle weggevat (Matteus 21:43).  Voortaan sou Hy na die heidene toe gaan (v.28, Johannes 10:16).  Sondaars glo of verwerp die evangelie, omdat Gód hulle oë oopmaak of aan die hardheid van hulle harte oorgee.  Lukas skryf:  “Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê:  Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word.  Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene… En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (13:46, 48).  Jesus het gesê:  “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).

 

Vir twee volle jare het Paulus rustig in Rome gewoon.  Hy het tente gemaak en geskenke ontvang en homself só onderhou (18:3, Filippense 4:18).  Hy het nie tyd gemors nie, maar die twee jaar goed benut “en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.” (v.30-31).  Hy was nou wel in boeie, maar die evangelie was nie (2 Timoteus 2:9).  In dié tyd het hy Filippense, Efesiërs, Kolossense en Filemon geskryf.[6]  Na die twee jaar in Rome is hy vrygelaat[7], het hy nog kerke besoek, en 1 Timoteus en Titus geskryf.  Jesus se opdrag was dat die evangelie tot aan die eindes van die aarde verkondig moet word (1:8).  Deur Paulus het die evangelie Rome bereik.  In Romeine 16:26 kon hy skryf:  “[The gospel] has been made known to all nations” (ESV).  Hy is weer gevange geneem.  Uit ‘n koue tronksel het hy 2 Timoteus (sy laaste brief) geskryf.  Volgens oorlewering het keiser Nero hom onthoof.

 

Reageer vandag op die evangelie.  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Korintiërs 6:2).  Maar voor jy reageer moet jy weet wat Jesus van jou vereis.

 

[1] Jesus vereis dat jy jou sondige self moet haat.  Jy moet bereid wees om jou lewe vir Hom te gee.  Jy moet Hom elke dag volg en nie net wanneer dit jou pas nie (Lukas 9:23).

 

[2] Jesus vereis dat jy liewer is vir Hom as vir jou familie.  Wie sal jy kies as jy tussen Jesus en jou familie moet kies (Lukas 14:26)?  As jy Hom wil volg moet jy gewillig wees om alles prys te gee (Lukas 14:33).

 

[3] Jesus vereis dat jy jou van jou sonde bekeer (17:30).  Is jy bereid om sekere sondes te los, maar nie almal nie?  Is daar één sonde wat jy net nie wil los nie?  Jesus het gesê:  “As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.  En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.” (Matteus 5:29-30).

 

[4] Jesus vereis dat jy die evangelie moet glo (Markus 1:15).  Moenie jou eie weergawe van die evangelie glo nie.  Glo die Bybel se Jesus en evangelie.  Die Bybel sê Hy is volkome God en mens.  Hy het geen sonde gedoen nie.  Hy het aan die kruis gesterf vir sondaars.  Hy is begrawe en het liggaamlik opgestaan uit die dood op die derde dag.  Geloof beteken om hierdie feite te aanvaar, te vertrou dat Hy jou kan red van jou sonde, en na Hom toe te kom.

 

[5] Jesus vereis dat Hy nie net ‘n deel van jou lewe sal wees nie, maar jou hele lewe.  Hy moet alles wees of niks.  Hy moet in jou bly en jy in Hom (Galasiërs 2:20, Johannes 6:53, 15:5).

 

[6] Jesus vereis dat jy Hom bo alles liefhet en doen wat Hy sê (Johannes 14:15, Lukas 6:46, 10:27).

 

Pasop vir die dodelike strik waarin baie al beland het.  Hulle skep ‘n Jesus en evangelie waarmee hulle gemaklik is; ‘n Jesus en evangelie wat nie so rigied, radikaal, veeleisend, aanstootlik, en ongemaklik is nie; “…‘n ander Jesus… ‘n ander evangelie” (2 Korintiërs 11:4).  Moenie jou gewete bedrieg en dink Jesus en die evangelie se eise sal weggaan as jy dit ignoreer of sê dit bestaan nie.  As jy sy stem vandag ignoreer en onverskillig is, bestaan die kans dat Hy jou hart verhard (Hebreërs 3:15, 10:26, 29).  Om vir Jesus te sê ‘wag’ is om ‘nee’ te sê, want almal wat nie vir Hom is nie is teen Hom.

 

John Bunyan het dit geniet om sonde te doen – veral op Sondae.  Toe hy op ‘n dag in die kerk sit, het die predikant hierteen gepreek.  Bunyan was oortuig dat dié preek voorberei was om sy boosheid uit te wys.  Hy het skuldig gevoel en met ‘n swaar gemoed by die kerk uitgestap.  Hy het probeer om van die preek te vergeet, sodat hy weer sy sonde kon doen.  Dieselfde dag nog, terwyl hy sonde doen, het daar ‘n stem in sy siel gesê:  ‘Will you leave your sins and go to heaven or have your sins and go to hell?’[8]  Dít is die vraag wat Jesus en die evangelie vandag voor jou stel.  Wat sal jy daarmee doen?

[1] Sien v.17-20, 24:15, 26:6-8.

[2] Genesis 3:15, Eksodus 12, Deuteronomium 18:15-19, Psalm 16, 22, 69, Jesaja 11, 53, ensovoorts.

[3] In teologie noem ons dit sy plaasvervangende soendood.

[4] Romeine 1:16

[5] Matteus 12:30

[6] Efesiërs 6:20, Filippense 1:13-14, Kolossense 4:18, Filemon 23

[7] Filippense 1:19, Filemon 22

[8] John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners, p.13