Hemel op aarde

Heaven on earth

Onthou jy Belinda Carslisle se lied, Heaven is a Place on Earth?  Dit gaan oor ‘n man wat met ‘n vrou dans, en volgens haar is dít hemel op aarde.  Duidelik het die wêreld nie ‘n idee van wat hemel op aarde eintlik beteken nie.  In Op.21:22-22:5 sê Johannes vir ons wat dit beteken.

 

Heerlikheid (21:22-27)

Ek het in die afgelope week gehoor hoe John MacArthur in ‘n preek sê:  ‘The church is your nation.  The church is your country.  The church is your state.  The church is your city.  The church is your tribe.  The church is your ethnicity.  The church is your family… The church is heaven on earth.  It’s going to be a heavenly experience brought down to earth.’[1]

 

Ek stem heelhartig met hom saam.  Alhoewel ons nog nie by die finale feesmaal is nie, is dit wat ons in die kerk ervaar ‘n voorsmakie van wat ons eendag op die nuwe aarde sal geniet (sonder sonde natuurlik).  Dit is die punt wat Johannes in 21:22-27 wil maak.

 

Volgens hom is daar geen tempel, son en maan, geslote hekke, nag, onreinheid en sonde in die Nuwe Jerusalem nie.  Die aardse tempel is in 70 n.C. verwoes.  In die Nuwe Jerusalem is God en die Lam die tempel (21:22, Hg.2:9, Jer.3:16-17).  In die kerk en op die nuwe aarde vul sy heerlikheid alles en is dit oral; dit word nie tot ‘n spesifieke plek beperk nie (21:22, Jes.66:1, Esg.10, Jh.4:20-24).

 

Deur die Heilige Gees wat in ons woon is ons die tempel en die stene waarmee Hy dit bou (1 Kor.3:16, Ef.2:21-22, 1 Pt.2:5).  God woon in ons en ons in Hom.  Hy is die sonlig waarin ons lewe (21:23-24, 22:5, 1:16, Ps.84:12, Jes.2:5, Jh.8:12, 1 Tm.6:16, Heb.1:3, 1 Jh.1:5).  In Christus kan ons die lig van sy guns geniet en in die sonskyn van sy glimag bak (21:23-24, Nm.6:25-26, Ps.80:20).

 

By Jesus se eerste koms, in die kerk en in die Bybel, ervaar ons reeds iets hiervan (21:23, 1:20, Ps.119:105, Jes.60:19-20, Mal.4:2, Mt.5:16, Lk.1:78, Jh.1:9, Ef.5:8-9, Fil.2:15, 2 Pt.1:19, 1 Jh.1:6-7).  Soos in Jon.3, sal die nasies en hulle konings na God se lig toe kom en daarin lewe; hulle sal hulle heerlikheid in die Nuwe Jerusalem inbring.  Hulle sal m.a.w. tot bekering kom, geskenke vir die Here bring, in die hemelse stad inkom, voor Jesus buig en bely dat Hy die Koning van die konings en die Here van die here is (21:24, 26, 19:16, Ps.72:10-11, 86:9, Jes.49:7, 60:3, 5, 10-11, 13).

 

Die stad se poorte sal altyd oop wees; die nag en sy gevare sal nie meer bestaan nie (21:25, Jes.60:11).  Die oop poorte wys dat ons nou en op die nuwe aarde ter enige tyd na die Here toe kan kom (21:25, Heb.10:19-22).  Die poorte van die kerk en van die Nuwe Jerusalem is nie oop vir almal nie, maar vir dié wie se name voor die skepping in die boek van die lewe geskryf is, vir dié wat hulle onreinheid en sonde gelos het (21:27, 22:14-15, 20:15, 17:8, Jes.52:1, Mt.13:41, 1 Kor.5:13, Heb.12:14).

 

Hoe moet ons hierdie verse toepas?

 

[1] Mense uit alle nasies sal lidmate van die kerk wees, en ook eendag saam met ons op die nuwe aarde woon.  Anders as by die toring van Babel in Gn.11:1-9, sal daar waarskynlik een taal wees.  En tog sal elke volk en stam sy identiteit behou.  Daar sal dus nogsteeds Indiërs, Afrikaners, Chinese, Russe en Zoeloes wees (21:24, 26, 7:9).

 

Ons moet dan nie dink dat ons beter is as ander bevolkingsgroepe, of dat hulle nie eendag op die nuwe aarde sal wees nie.  Ons moet ook nie in die kerk teen hulle diskrimineer of hulle uitsluit, omdat hulle anders as ons lyk en praat nie.  Paulus het van die kerk gesê dat “daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kol.3:11).  Petrus het gesê:  “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” (Hd.10:34-35).

 

[2] Mense wat onrein, vals en gruwelik lewe, sal nie in die hemelse stad inkom nie (21:27).  Ons moet hulle dan ook nie as lidmate in die gemeente verwelkom nie.  Ons ken nie almal se harte nie, en daarom kan ons nie elke Judas keer nie.  Maar as ons dit kan help mag ons nie mense se name op die lederol skryf, as hulle name nie ook in die boek van die lewe is nie (21:27, Lk.10:20b, Fil.4:3b).  Ons moet eerder die goeie nuus van Jesus se kruisdood en opstanding met hulle deel, en bid dat hulle tot bekering sal kom.

 

Lewe (22:1-5)

Die Griekse woord vir Paradys [paradeisos] verwys letterlik na ‘n omheinde tuin van plesier.  Dit herinner my aan die hangende tuine van ou Babilon, wat een van die sewe wonders van die antieke wêreld was.  Die Nuwe Jerusalem sal so wees, net baie beter.  Die stad sal nie ‘n oerwoud van beton en stene wees nie, maar ‘n pragtige stad van riviere en bome.  Dit sal mooier wees as enigiets wat jy al in jou lewe gesien het.

 

Die engel van 21:9 het in 22:1 vir Johannes die kristalhelder rivier van lewende water gewys.  Soos in die tuin van Eden (Gn.2:10), sal daar ‘n rivier in die hemelse Paradys wees.  Esg.47:1-12 praat van ‘n rivier wat uit die tempel vloei en lewe gee.  Alhoewel die rivier in 22:1-2 moontlik van ‘n letterlike rivier praat, is dit ook simbolies van die ewige lewe wat Jesus deur die Gees in die evangelie gee (21:6, Jes.44:3, Jh.4:14, 7:37-39).  Die feit dat dit van die troon af vloei, wys dat alle lewe van God af kom, en dat Hy soewerein is daaroor (22:1).

 

Die rivier het deur die middel van die stad se straat gevloei, en aan beide kante het die boom van die lewe gestaan (22:2).  Johannes bedoel dat daar baie bome was wat in lanings langs die rivier gestaan het (Esg.47:12).  Vir die volle twaalf maande van die jaar het dit vrugte gedra, elke maand ‘n ander soort (22:2).  Die blare het nie verlep nie, maar is wel gepluk en as medisyne gebruik (22:2).  Hoe moet ons 22:2 verstaan?

 

[1] Ná die sondeval het God die mens verbied om van die boom van die lewe te eet (Gn.2:9, 3:22-24).  Op die nuwe aarde sal ons weer van die boom se vrugte eet (22:2, 14, 2:7).  Ja, ons sal eet op die nuwe aarde.  Daar sal oorgenoeg wees; niemand sal honger ly nie (22:2, vgl. 7:16).

 

As dit vir jou ongeestelik klink om op die nuwe aarde te eet, moet jy onthou dat Adam voor die sondeval geëet het.  Jesus het voor en na sy opstanding geëet.  Volgens 1 Tm.4:3-5 is dit nie ongeestelik om te eet nie, en verheerlik dit die Here.

 

[2] Die boom in 22:2 illustreer ook hoe ons lewens moet lyk:  “En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” (Ps.1:3).

 

[3] Die twaalf maande in 22:2 impliseer dat daar tyd op die nuwe aarde sal wees.  God alleen is ewig en alomteenwoordig, buite tyd en spasie, EK IS wat EK IS.

 

[4] Die boom van die lewe se blare was vir die genesing van die nasies (22:2, Esg.47:12).  Dit beteken nie dat daar siekte sal wees nie, maar dat daar altyd gesondheid sal wees (21:4).  Die blare sal ons gesond hou, soos wat voldoende rus, gereelde oefening, ‘n gebalanseerde dieët en vitamines dit doen.  Die blare van genesing is ook simbolies van Jesus se kruisdood wat die nasies van hulle sonde genees het (Jes.53:5).

 

A.g.v. ons sonde, verdien ons om deur die Here vervloek te word (Gn.3:16-19, Gal.3:10).  Deur Jesus se kruisdood het Hy die vervloeking op Homself geneem (Gal.3:13).  God regeer in ons midde, en daarom kan geen vervloeking naby ons kom nie (22:3, Gal.3:14, Ef.1:3).  Ons kan nie deur bloedlyn- en ander vloeke ‘gebind’ word nie (Nm.23:23, Sp.26:2, 1 Pt.1:18).

 

Soos ons die Here nóú dien en aanbid, sal ons dit op die nuwe aarde doen (22:3).  Moet asb. nie aanbidding tot sang beperk nie; dit is meer as dit.  Die werk wat jy doen, jou plesier in God se nuwe skepping, die gemeenskap van gelowiges, jou gesprekke met engele en ander hemelwesens, jou dankbaarheid oor die nuwe kleure, geure en smake wat God geskep het, sal daartoe lei dat jy Hom aanbid en bewonder.  Jou hele lewe en alles wat jy doen sal aanbidding wees (Rm.12:1, 1 Kor.10:31).

 

Jy sal dit nie kan help as jy eers sy gesig gesien het nie (22:4).  Deur ons geloof in die evangelie het ons reeds sy heerlikheid in die aangesig van Jesus Christus gesien (2 Kor.4:6).  Maar ons het dit nog nie volkome gesien nie, en ons kán ook nie (1:16-17, Eks.33:20).  Eers as Hy ons liggame verheerlik het, sal ons instaat wees om sy gesig te sien.  Ons sal so verwonderd wees, dat ons Hom met lus en met ywer sal dien (22:3-4, 2 Ts.1:10).

 

Hierdie voorreg is net vir dié wie se harte rein is deur die bloed van die Lam (Mt.5:8).  As jy geen begeerte hiervoor het nie, is dit omdat jou hart nie rein is nie.  Vra die Here om jou vuil hart van klip uit te haal en vir jou ‘n hart te gee wat sensitief is vir sy Woord en sy Gees (Ps.51:12, Esg.36:25-27, Heb.10:22).  Om ‘n rein hart te hê, moet jy jou ook bekeer, jou sonde bely, en die Here gehoorsaam (2 Kor.7:1, Jk.4:8, 1 Pt.1:22).

 

As jy dít doen sal jy stelselmatig begin om Christus se heerlikheid te weerspieël, totdat jy dit eendag perfek doen (22:4, Eks.28:36, Rm.8:29, 2 Kor.3:18, 1 Jh.3:2).  Ons sal vir ewig in sy lig lewe en saam met Hom oor die nuwe aarde regeer (22:5, 21:24, Ps.36:10).  Ons sal die oorspronklike opdrag van Gn.1:28 ernstig opneem:  “heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (vgl. Ps.8:7-9).

 

Dit beteken nie dat die nuwe aarde maar net ‘n herstelde tuin van Eden is nie.  Dit is meer as dit.  Deur sy kruisdood het Jesus meer teruggekry as wat Adam verloor het:  “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rm.5:20).

 

Op die nuwe aarde is daar geen boom van die kennis van goed en kwaad nie (Gn.2:9, 17).  Daar is dus geen moontlikheid om sonde te doen of te sterf nie (20:14, 21:4).  Daar is geen duiwel om ons te versoek nie (20:10, Gn.3:1-5).  Ons het nie meer stoflike liggame soos Adam s’n nie, maar verheerlikte liggame (Gn.2:7, 1 Kor.15:42-49).  Ons is nie net God se kinders deur skepping nie (soos Adam voor die sondeval), maar deur verlossing.  Deur ons eenheid met Christus is ons nie meer laer as die engele nie, maar bo hulle (Heb.2:6-9, Ef.1:20-22, 2:6).

 

Wanneer ek hieroor dink, bid ek dat Jesus weer sal kom om die aarde nuut te maak.  Ek besef dat daar baie mense is wat nie soos ek dink nie.  Omtrent 5 jaar gelede het ek vir iemand by ‘n boekwinkel gevra of sy Randy Alcorn se boek Heaven gelees het, en wat sy daarvan gedink het?  ‘Ek het nie daarvan gehou nie,’ het sy gesê.  ‘Sy idee van die hemel was vir my te aards.’  Na my mening was Alcorn se beskrywing van hemel op aarde heeltemal Bybels, en bevestig hierdie verse dit.

 

[1] https://www.gty.org/library/sermons-library/81-8/your-responsibility-to-the-church-part-1

Advertisements

Die Nuwe Jerusalem

New Jerusalem

Ek het ‘n argitek ontmoet wat al meer as 50 kerke ontwerp het.  Hy het vir my verduidelik hoe die gebou veronderstel is om ‘n boodskap oor te dra.  Die lig wat by die boonste vensters inkom en op die kansel skyn, is simbolies van God se lig wat deur sy Woord na die gemeente toe kom.  Die banke is in die vorm van ‘n amfiteater, sodat jy nie in die mense wat voor jou sit se koppe vaskyk nie.  Jy moet hulle gesigte sien; daar moet ‘n gevoel van warmte wees, omdat die kerk ‘n familie is

 

Net so is die Nuwe Jerusalem ontwerp om ‘n boodskap oor te dra.  Op.21:9-21 gaan nie net oor die lewe hierna nie, maar dit sê ook iets van die kerk hier op aarde.  In Engelse praat ons van ‘the church militant and triumphant’, van die kerk wat nog op aarde teen sonde en die duiwel moet stry, en van die gelowiges wat alreeds oorwin het en in die hemel is.  Op.21 gaan oor beide.  Op die nuwe aarde sal ons die volheid daarvan geniet, maar daar is ‘n sekere sin waarin ons nou al iets daarvan beleef (Heb.12:22-23).

 

Haar heerlikheid (v.9-11)

Engels het twee algemene woorde vir huis.  ‘House’ verwys na die struktuur, terwyl ‘home’ die persoonlike en huislike element beskryf.  Voor ‘n man trou bly hy in ‘n ‘house’ – die huislike gemak pla hom nie eintlik nie.  Maar as sy vrou intrek word dit ‘n ‘home’, omdat sy dit huislik en gemaklik maak.  So is dit ook met die Nuwe Jerusalem.  Dit gaan nie hoofsaaklik oor die strate en paleise nie, maar oor die inwoners; oor Jesus en sy bruid.

 

In hfst.15-16 het God vir sewe engele die sewe bakke van sy toorn gegee.  In 17:1 het een van hierdie engele die groot prostituut of aardse Jerusalem vir Johannes gewys.  In v.9 het een van dieselfde engele vir hom die bruid of Nuwe Jerusalem gewys.  Ek het reeds in v.2 gesê dat die bruid die kerk is (vgl. Ef.5:31-32).

 

Johannes is in die Gees weggevoer om die Nuwe Jerualem te sien (v.10, 17:3).  Toe hy die prostituut gesien het, was sy soos rebelse Israel van ouds in die woestyn (17:3).  Maar toe hy die bruid gesien het, was sy volgens God se Woord op ‘n groot en hoë berg (v.10, Jes.2:2-3, Ps.48:3).  Jesus het van die kerk gesê:  “Julle is die lig van die wêreld.  ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie” (Mt.5:14).

 

Johannes het ook gesien dat die stad heilig of afgesonder is vir die Here (v.10, 1 Kor.1:2).  Sy het uit die hemel van God af neergedaal, om só te wys dat die kerk se verlossing geheel en al van Hóm af kom (v.10, Ef.1:3-14).

 

Soos die vrou in Sp.31:10, was God se bruid soos ‘n skaars en kosbare juweel, soos ‘n pragtige jaspissteen en so helder soos kristal (v.11).  Omdat God se heerlikheid ook so is (4:3), wys v.11 vir ons dat sy dit weerspieël het, net soos wat ‘n goeie vrou haar man se heerlikheid weerspieël (Sp.12:4, 1 Kor.11:7).

 

Wat leer v.9-11 vir ons?

 

[1] Jy is Jesus se bruid.  Om in gemeenskap met Hom te lewe, moet jy deur die Woord, gebed en die kerk tyd met Hom spandeer.

 

[2] Die feit dat die Nuwe Jerusalem of die kerk die hoogste berg is (v.10), beteken dat Bybelse Christenskap die grootste en mees invloedryke godsdiens in die wêreld sal wees.  Dit maak my hoopvol, en spoor my aan om vir herlewing, sending en evangelisasie te bid.

 

[3] As die kerk soos ‘n waardevolle juweel is, wys dit dat sy kosbaar is vir God.  “Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet” (Jes.43:4).  En as Hý die kerk so beskou, moet sy nie ook so wees vir jóú nie?  Moet jy nie jou tyd, toewyding, krag, gebede, gawes, en geld gee, sodat sy kan groei nie?  Sommige mense gee meer aandag aan hulle honde as wat hulle aan Jesus en die kerk gee.  Moenie soos hulle wees nie.

 

Haar ontwerp (v.12-14)

Elke vyf of tien jaar sal iemand in ‘n Bybelstudie vra wie nou eintlik die twaalfde apostel is:  Paulus, of Matthias wat in Judas se plek gekies is; wie van hulle se name is op die Nuwe Jerusalem geskryf?  Die Bybel sê nie vir ons nie, en eintlik maak dit nie saak nie.

 

Johannes se punt met die twaalf stamme en die twaalf apostels in v.12-14, is om te wys dat al die gelowiges in die Ou- en Nuwe Testamente deel is van God se bruid, die Nuwe Jerusalem of die kerk (vgl. Ef.2:11-22).

 

Om te wys hoe veilig dit is, het die stad ‘n hoë en groot muur gehad (v.12).  “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.” (Ps.34:8).  “Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid.” (Ps.125:2).  “En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, ‘n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in.” (Sg.2:5).

 

Volgens Jes.60:18 word die mure ‘verlossing’ genoem.  Niemand kan ons in hierdie lewe of op die nuwe aarde uit God se hand uit ruk nie – ons is veilig (Jh.10:28-29).  Soos gerubs die boom van die lewe opgepas het (Gn.3:24), sal engele by die stad se hekke waghou om te wys dat dit veilig is (v.12).

 

Daar was twaalf hekke – drie in elkeen van die vier windrigtings – met die name van die twaalf seuns van Israel daarop gegraveer (v.12-13, Esg.48:31-34).  Die vier windrigtings wys vir ons dat mense uit alle nasies in die kerk en in die hemelse stad sal inkom (Mt.24:31, Lk.13:29).  Die twaalf stamme se name op die hekke wys dat verlossing uit die Jode is, aangesien Jesus as ‘n Jood gebore is (Jh.4:22, Rm.9:5).

 

Die name van die twaalf apostels was op die stad se twaalf fondasiestene gegraveer (v.14).  Die fondasie beteken dat die kerk vasstaan, en dat sy nie geskud kan word nie (3:12, Heb.11:10).  Die apostels se name wys dat Christus die fondasie van sy lering vir húlle gegee het om vir die kerk te gee (Mt.16:18, Ef.2:20, 1 Kor.3:10-11).

 

Elkeen wat hierdie lering hoor en doen, bou op die fondasie (Lk.6:47-48).  As jy die Bybel hoor en lees maar nie doen nie, het jy geen fondasie of sterk mure om jou teen die storm van God se oordeel te beskerm nie (Mt.7:21-27).  Jy is nog ongered en moet jou bekeer (Jk.1:21-22).

 

As jy nóú in Jesus glo, kan jy vandag al in die hemelse stad ingaan.  Jesus het in Jh.10:9 gesê:  “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word”.  Wanneer Jesus weer kom sal jy letterlik deur die stad se hekke loop en Hom van aangesig tot aangesig sien.  Die gedagte hieraan moet jou aanspoor om hier en nou vir Hom te lewe.  Moenie dinge doen waaroor jy skaam sal wees as jy Hom eendag in die oë moet kyk nie.

 

Haar afmetings (v.15-17)

‘n Paar jaar gelede het ek oor die hemel gepreek.  Ek het v.15-17 aangehaal, en gesê dat die hemelse stad vier keer groter as Suid-Afrika is (4.8 miljoen km2, teenoor óns land se 1.2 miljoen km2).  Ek is egter nie meer oortuig dat Johannes letterlike afmetings in gedagte gehad het nie.  Kom ek wys vir jou hoekom ek so sê.

 

Die engel het ‘n goue meetstok gehad (v.15, Esg.40:3).  Hy het die stad se poorte en mure afgemeet om te wys dat dié wat binne-in was, onder God se beskerming is (v.15, 11:1-2, Sg.2:1-5).  In v.16-17 sien ons dat die stad 12 000 stadia hoog, breed en lank was, en dat die muur 144 el was.

 

Ek is nie heeltemal oortuig dat ons die mates in moderne idiome moet vertaal, sodat ons dink die stad is 2200 km hoog nie.  Die engel het juis menslike veelvoude van twaalf gebruik om te wys dat die stad meer as genoeg plek gehad het om die twaalf stamme en die twaalf apostels se ‘nageslag’ te akkomodeer (v.16-17, 12, 14, 7:9, Jh.14:2).

 

Soos die Allerheiligste van die tempel, was die stad ‘n perfekte kubus (v.16, 1 Kon.6:20).  Die punt is dat die kerk en die nuwe aarde met God se heerlikheid gevul sal wees, en dat dit ‘n plek van spesiale aanbidding is.  God se heiligdom is nie meer tot ‘n sekere plek beperk nie, maar is in ons (v.22, Jh.4:20-24, 14:21, 23).

 

Die stad se mure was baie hoog, maar nie naastenby so hoog soos die stad self nie (v.16-17).  Die punt is weer dat God sy bruid in die hemel en op die aarde sal beskerm, en dat haar heerlikheid nie weggesteek kan word nie.

 

As jy deel van Jesus se bruid, die kerk is, sal Hy jou beskerm.  Maar as jy eenkant en op jou eie is, of deur Bybelse dissipline van die gemeente afgesny is, verbeur jy God se spesiale genade, guns en beskerming (1 Kor.5:4-5, 1 Jh.5:18-19).

 

Om een of ander rede verstaan party Christene dit nie.[1]  Hulle dink dat hulle buite en sonder die kerk van Jesus Christus kan funksioneer.  Hulle respekteer nie die ‘mure’ wat God daargestel het om hulle te beskerm nie.  Hulle soek ‘n berader wanneer dit met hulle sleg gaan, maar verstaan nie dat hulle juis sukkel, omdat hulle nie deel is van ‘n goeie gemeente nie.  Ek probeer nie sê dat mense wat getrou is geen probleme het nie, maar hulle het verseker die middele om dit op te los.  Toe Asaf gesukkel het om sý probleem op te los, het hy hulp gekry toe hy “in die heiligdomme van God ingegaan” het (Ps.73:17).

 

Daarom is die oplossing vir kerklose Christene met probleme nie berading nie, maar bekering van hulle ontrouheid aan die liggaam.  As kerklose mense vir Martyn Lloyd-Jones gevra het om hulle te beraad, het hy gesê:  ‘Kom vir 13 opeenvolgende weke kerk toe.  Luister na die prediking van die Woord en pas dit toe.  As jy aan die einde daarvan nog dink dat jy berading nodig het, kan jy vir my sê.’  Hy was reg toe hy gesê het:  ‘as preaching goes down, personal counselling goes up.’[2]  Moet jouself dan nie in die voet skiet, omdat jy die kerk en God se algemene genademiddele geringskat nie.

 

Haar boumateriaal (v.18-21)

In die afgelope dekade het dit populêr geraak om êrens in jou huis se versiering klip te gebruik.  As jy baie geld het is die klippe eg en nie nagemaak nie.  Hoe moet ‘n stad dan lyk waarvan die mure van jaspis gemaak is (v.18, 11)?  Beter as Salomo se tempel in 1 Kon.6:30, was die stad en sy strate van suiwer goud, so helder soos glas (v.18, 21).  Die goud herinner ons aan die beproewings wat God stuur om ons geloof te suiwer (1 Pt.1:7).

 

Soos die tempel se fondasie in 1 Kon.5:17, was die fondasiestene van die stadsmuur met edelstene versier (v.19-20, vgl. Jes.54:11-12).[3]  Ons het reeds in v.14 gesien dat die name van die apostels daarop gegraveer is.  In Eks.28:17-21 is die stamme se name op twaalf verskillende edelstene gegraveer, en het die hoëpriester dit op sy bors gedra.  Ons kan weereens sê dat die kerk uit die Ou- en Nuwe Testamente in die Nuwe Jerusalem teenwoordig is.

 

Die twaalf poorte is van twaalf pêrels gemaak, elke poort van ‘n enkele pêrel (v.21).  Ons praat nie hier van pêrels wat so groot soos ‘n ertjie is nie.  Die juweel-ryke stad met sy poorte van pêrels sê vir ons iets van die onskatbare waarde van God se kerk en Koninkryk:  “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.  Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.” (Mt.13:44-46).

 

Hierdie verse is veronderstel om jou met jou geldsake te help.  Is jy ‘n ryk gelowige?  Wees vrygewig in jou hulp aan die armes en sendelinge, en maak só vir jouself skatte in die hemel bymekaar (Lk.12:33, Fil.4:15-19, 1 Tm.6:17-19).  Hoekom wil jy in hiérdie wêreld skatte opgaar, as dit buitendien in die toekoms vernietig gaan word (Mt.6:19, 1 Kor.7:31, 1 Jh.2:17)?

 

Is jy ‘n arm gelowige?  Jy is ryker as wat jy besef.  Die Nuwe Jerusalem se rykdom is ‘n prentjie van die heerlike rykdom wat God vir die kerk gegee het (2:9, Rm.9:23, 10:12, 11:33, 2 Kor.6:10, 8:9, Ef.1:3, 18, 2:7, 3:8, 16, Jk.2:5).  God het vir jou die Koninkryk gegee, sodat die hemel met al sy skatte joune is (Mt.25:34, Lk.12:32).

 

Moenie jou rykdom in terme van geld en eiendom meet nie.  ‘Is ek deur my geloof in Christus deel van die Nuwe Jerusalem?’ is die vraag wat jy vir jouself moet vra.  Is jy deur wedergeboorte – nie net op papier nie – deel van die kerk van Jesus Christus?

 

Moenie soos sommige mense ‘n lae siening van die kerk hê nie.  Moet ook nie soos Katolieke die kerk bo Christus en die Bybel verhef nie.  Kry ‘n hoë, Bybelse, en gebalanseerde siening van die kerk.  Sien dit soos Johannes dit in Op.21 gesien het.

 

[1] Ek praat nie hier van mense wat a.g.v. hulle gesondheid wegbly nie, maar van mense wat by die gemeente kán wees, maar nie wíl nie.

[2] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, p.17

[3] Vir ‘n beskrywing van sommige van die stene, kan jy die volgende preek opsoek:  https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2015/09/26/n-spieelbeeld-van-jesus/

Die ABC van gemeentesang

Congregational singing 2

In ons gemeente beklemtoon ons die suiwer prediking van God se Woord.  Daar is egter ‘n paar gebiede waarin ons sukkel.  Gemeentesang is een van hulle.  Van ons beste musikante het na ander dorpe toe verhuis.  Ons bekwame musiek leier van 13 jaar is op die oomblik buite aksie, en sal hopelik teen Augustus weer by die groep aansluit.

 

Ons maak ook nie die gebou vol nie.  In ‘n gebou wat 160 kan sit, is ons 75 mense in die oggend en 35 in die aand; met ‘n hoë plafon voel ons dit.  En dan het ons nuwe musikante wat nou eers vir ‘n paar maande saam speel.  Daar is nóg een of twee faktore wat maak dat ons sukkel.

 

Maar hierdie probleme is die nr.1 rede hoekom ons sukkel nie.  Ons het Bybelse instruksie nodig.  Wat sê die Bybel oor samesang en hoekom is dit belangrik?  Kol.3:16 sal ons help om hierdie en ander vrae te beantwoord.

 

Die liedboek van gemeentesang

Mense verskil oor gemeentesang.  In ons gemeente is daar party mense wat van Halleluja-liedjies hou, terwyl ander die nuwe liede verkies.  In ander kerke hou sommige mense van kitare, terwyl ander die orrel verkies.  Een gemeente is kontemporêr en ‘n ander een konserwatief.  Wat is die basis waarvolgens ons moet besluit wat reg is?

 

Die Woord van Christus moet die basis van ons gemeentesang vorm.  Die feit dat dit die Woord van Christus is, impliseer dat ons liede op Hom moet fokus; dit moet Christo-sentries wees.  As ‘n ongelowige by die erediens was en tydens die preek geslaap het, moes hy êrens in een van die liede die evangelie gehoor het.

 

Christo-sentriese gemeentesang impliseer verder dat ons liede nie op die mens, sy behoeftes en sy gevoelens fokus nie.  Die liedjie wat sê:  ‘You thought of me, above all,’ fokus op die mens en nie op Jesus nie.  Dit skep die idee dat Hy ons benodig, en dat Hy nie sonder ons kan lewe nie.

 

Christo-sentriese liede weet dat Jesus ‘n Liefdevolle en Getroue Vriend is, maar sing nie asof Hy ons ‘cool pal’ is nie; dit bewonder sy groot liefde, maar sing nie asof Hy ons meisie of kêrel is nie.

 

‘Die Woord van Christus’ impliseer dat die Bybel ons liede se inhoud moet bepaal (Ps.119:54).  Wat moet ons sing?

 

  • Ons moenie net die Psalms sing nie, maar ons moet dit ook nie afskeep nie.
  • Met lofgesange moet ons die Here vir sy Persoon, karakter en dade prys.
  • In plaas van vleeslike liede, moet ons geestelike liede

 

So sal ons sing wat die Here wil hê, en nie maar net liede wat ons lekker laat voel, of liede waarmee mense gemaklik is nie.  Ons moenie bloot die ou koortjies of Hillsong se nuutste treffer wil sing, omdat dit mooi instrumente het, of omdat die wysie ‘catchy’ is nie.  Die vraag moet altyd wees:  ‘Wat sê die Bybel?’

 

Die Bybel sê bv. nié dat Jesus die Heilige Gees se Seun is nie.  Dit was ‘n tikfout in een van ons liede:  ‘Kom O Skepper Gees… Leer my van u Seun…’  Die regte woorde moet wees:  ‘Leer my van die Seun…,’ en daarom het ons dit verander.

 

Die Here wil hê ons moet Hom in waarheid aanbid (v.16, Jh.4:24).  Om bloot te sê jy is opreg is nie genoeg nie.  Ussa was opreg, en tog het God hom laat sterf, omdat hy sy eie reëls gevolg het (2 Sm.6:5-7, 2 Kron.15:2, 15, Nm.4:15, 7:8-9).  Dít is hoe ernstig die Here is dat ons Hom volgens sy Woord moet aanbid.  Maar dis nie al nie.  God wil ook hê dat ons Hom in gees moet aanbid (Jh.4:24).  Hier is wat ek bedoel.

 

Die hart van gemeentesang

Jy ken seker die storie van die man wat Psalm 23 voorgedra het, en mense se applous gewen het?  Toe hy klaar was het hy die mense in die gehoor uitgedaag om dit beter as hy op te sê.

 

‘n Ou man het dit opgesê.  Toe hy klaar was het niemand applous gegee nie; almal het gehuil.  Mense het gevra wat die verskil was.  ‘Die kunstenaar ken die Psalm; die ou man ken die Herder,’ het iemand geantwoord.

 

Net so kan ons in gemeentesang met koue harte die Bybel se reëls volg:  ons kan die Here in waarheid aanbid, sonder dat ons Hom in gees aanbid; die Woord kan in ons koppe wees, sonder dat dit in ons harte is; ons kan die woorde met ons lippe sê, sonder dat dit ons siele raak (v.16, Jh.4:24).

 

As ons dan die Here met opregte wil prys, moet ons seker maak dat ons gered is.  Jy móét besef dat jy sonder Hom meer verlore is as iemand wat in digte mis in die berge verdwaal.  Jy moet op Jesus vertrou en besef dat net Hý jou van die ewige oordeel kan red.

 

Jy moet na Hom toe uitroep as die enigste hoop om vergewe te word.  Jy moet jouself aan Hom toevertrou en glo dat die Vader sý perfekte lewe, kruisdood en opstanding in jou plek sal aanvaar.  Jy moenie meer vir jouself lewe nie, maar vir Hom.

 

En as jy dít gedoen het, kan jou lofprysing vir Hom aanneemlik wees en kan jy Hom in gees en waarheid aanbid (v.16, 1-15, Jes.1:12-18, Mt.5:23-24, 1 Tm.2:8).  Om die Here in gees te aanbid, moet sý Gees jou hart vul.  Dit kan net gebeur as jy die Boek wat deur die Gees geïnspireer is, indrink soos wat ‘n dronkaard wyn drink:  jy moet baie daarvan inneem (v.16, Ef.5:18).

 

En as jy die Woord biddend in jou hart gebêre het, sal dit vanself in aanneemlike lofprysing soos heuning van jou lippe afdrup, want wat die hart van vol is loop die mond van oor (Mt.12:34).  Doen dan moeite om jou hart en lewe met God se Woord te vul:  luister na Bybelse lering en prediking; lees, bestudeer, bepeins, memoriseer en gehoorsaam die Woord van God (Ps.1:2, 119:11, 97).

 

As jy dít doen, sal die Woord ryklik in jou woon.  Dit sal jou hart, gesindheid, denke, woorde en dade oorheers en deurweek.  Die Heilige Gees sal jou hart in ‘n tuiste vir die Woord van God omskep.

 

Dít is waaroor Geesvervulde lofprysing gaan.  Dit begin nie wanneer jy by die erediens instap nie; jou hele lewe moet met die Woord gevul wees.  Maak veral seker dat jy voor die erediens ‘n tydjie afsonder om jou hart reg te kry.  Bely jou sonde, bid vir hulp om die Woord te verstaan, dank die Here vir sy goedheid.

 

Kom dan met ‘n dankbare hart vol van blydskap na die erediens toe:  “Enter his gates with thanksgiving, and his courts with praise!” (Ps.100:4, ESV).  Moenie onvoorbereid kom soos wat die populêre lied sê nie:  ‘Come, now is the time to worship… Come, just as you are to worship.’

 

Doen alles wat jy kan om die Here uit ‘n Geesvervulde hart te prys.  Sorg dat jy jou definisie van Geesvervulde lofprysing reg het.  Dit het niks te doen met ‘n klomp mense wat in brabbeltale praat, omval, hoendervleis kry, of ‘n ekstatiese ervaring het nie.

 

Om emosioneel te raak wanneer jy sing beteken ook nie outomaties dat die Heilige Gees teenwoordig is nie.  Mense raak emosioneel wanneer hulle die volkslied by ‘n rugby wedstryd sing, of as Bobby van Jaarsveld by ‘n musiek konsert vir hulle soene blaas.

 

Emosie op sy eie kan nooit vir jou ‘n geestelike ervaring gee nie.  Daarom sing ons nie vir 90 minute totdat ons ‘n emosionele ‘high’ bereik het nie.  Ons sing ook nie ‘n reëltjie met vyf woorde vyftien keer oor, totdat ons in ‘n beswyming ingaan en beheer verloor nie.

 

Kerke wat so aanbid fokus op hulleself en nie op die Here nie.  Dit is nie die Heilige Gees en sy waarheid wat hierdie mense help om hulle emosionele ‘high’ te bereik nie, maar die oorverdowende musiek, die eindelose herhaling, die gekleurde ligte, die rookmasjien, die massas wat om hulle skreeu, en die konsert wat op die verhoog aan die gang is.  Dit lyk meer na ‘n sekulêre rock konsert as na ‘n erediens.

 

Hierdie mense sou nooit so ‘vol van die gees’ gewees het as al die ligte aan was, as dinge ordelik geskied het, as die gemeente se stemme harder was as die dromme en die kitare, as hulle net vier liede gesing het, as elke lied net een keer gesing is, en as die liede se inhoud gelaai was met soliede teologie nie.  Dit wys vir ons dat hulle emosie vleeslik opgewek is.

 

Emosie moet eerder ons reaksie op die waarheid wees.  As die Gees ons harte vul en die Woord ryklik in ons woon (v.16, Ef.5:18), sal God-verheerlikende emosies in riviere van lof oor ons lippe vloei.  Ons harte sal met liefde vir Jesus brand (Lk.24:32).  Ons sal vol van dankbare blydskap wees en die Here met lofgesange prys (v.15-17).

 

Die skool van gemeentesang

‘n Tagtig jarige tannie in ons gemeente het vir my gesê dat sy Totius se beryming van die Psalms geleer het toe sy klein was.  ‘Ek onthou dit vandag nog,’ het sy gesê.  Ons onthou God se Woord makliker as ons dit sing (Dt.31:19, 22, 30, die Psalms).  Daarom moet ons mekaar met Bybelse lofliede onderrig en vermaan (v.16).

 

Die Bybelse woorde van hierdie liede sal vir ons wysheid gee en die waarheid in ons harte vas sement (v.16, 2:3).  Omdat ons die Bybel op hierdie manier leer, sal vals woorde vir jare lank in ons koppe vassit en ons op die verkeerde pad lei.  Sing daarom die waarheid om jouself en ander van die Here te leer, om jou en hulle aan te spoor om Hom beter te volg.

 

Om mekaar goed te onderrig, moet ons weet wat ons sing.  As daar ou woorde is, moet ons dit verduidelik of verander.  Ons liede moet eenvoudig wees, maar dit hoef nie oppervlakkig te wees nie.  Dit is bv. nie verkeerd om te sing:  ‘God is so goed, God is so goed, God is so goed, Hy’s so goed vir my’ nie.

 

Maar ons kan nie net sulke koortjies sing en verwag dat ons aanbidding die hoë pieke van ‘n geestelike Berg Everest sal bereik nie.  Daarom moet ons ook liede met Bybelse substansie sing.  Ons moet bv. sing:

 

In die hemel is die Heer,

en sy glans is soos kristal.

Hy’s die heilige van God,

en Hy heers oor die heelal.

Daar is mag in sy Woord,

soos die waters druis sy stem.

Soos die son op die see se blou,

so die rykdom van sy trou…

Miljoene in gereedheid,

span die eng’le om sy troon.

Verbysterend sy sieraad,

en die weelde van sy kroon…

 

Die skool van gemeentesang vorm tot ‘n groot mate die beeld wat ons van God het.  Daarom moet ons nie vir ons kinders lawwe liedjies oor God, Verlossing, en die res van die Bybel leer nie (bv. die Bybel-liedjies wat hulle op Veggie Tales leer).

 

Ons kan nie verwag dat hulle Jes.6 se heerlike beeld van God moet hê, as ons vir hulle liedjies leer soos die een wat my kinders by ‘n kamp geleer het nie:  ‘Ek spring soos popcorn as ek vir Jesus sing, popcorn sal ek vir Jesus spring, popcorn want ek is baie bly, Jesus het gekom vir jou en my…’

 

Die melodie van gemeentesang

Die meeste mense sal vir jou sê dat die melodie nie belangrik is nie, en dat dit die woorde is wat saakmaak.  Maar mense wat films maak sal vir jou sê dat die melodie baie belangrik is.  Jy kan spanning, blydskap, hartseer, vrees, kwaad, en ander emosies deur die melodie opwek.

 

Daarom moet ons seker maak dat die melodie, die ritme en die instrumente ons lofliede se woorde komplementeer.  Dit moenie die aandag van die woorde af wegvat of daarmee bots nie.  Ons moenie méér beïndruk wees met die wysie as met die God van wie ons sing nie.  En tog moet die musiek ook pragtig wees en iets wys van die God wat dit gemaak het.

 

Ons het ‘n oulike CD vir kinders wat vir hulle Bybelversies leer.  Maar daar is een lied waarvan ek nie hou nie, omdat die melodie die woorde weerspreek.  Die woorde is aangehaal uit die laaste deel van 2 Kor.9:7:  “God loves a cheerful giver.” (ESV).  Maar wanneer die kinders die liedjie sing, sê hulle:  ‘God loves a cheerful giver, ha-ha-ha-ha-ha…’

 

Die vers gaan glad nie oor iemand wat uit sy maag uit lag wanneer hy vir die Here se werk bydra nie.  Ek het nog nooit gesien dat iemand in ons gemeente dit doen nie, en dink dat hierdie liedjie se melodie met die woorde bots.

 

Wanneer ons saam sing kan ons ook nie ‘n opgeruimde melodie hê wanneer ons oor God se oordele sing, of wanneer ons ons sondes bely nie.  Maar ons kan ook nie ‘n droewige melodie hê as ons die Here vir sy wonderlike verlossing prys nie.  ‘Joy to the World’ moet daarom ‘n ‘Joy to the World’ tipe melodie hê.

 

Na my mening is daar ‘n paar skrywers wat hierdie kuns bemeester het.  As jy van ouer musiek hou, is niemand beter as Isaac Watts en Charles Wesley nie.  As jy hedendaagse gemeentesang verkies, is die Getty’s, Stuart Townend en Bob Kauflin goed.  Ek dink dat Hillsong en Jesus Culture nie die beginsels volg wat ek hierbo genoem het nie.[1]

 

As gelowiges vermy ons sekere style, omdat die wêreld dit gebruik om hulle immorele en goddelose agenda te dryf.  Heavy Metal word bv. gebruik om die werke van duisternis te propageer, en dus is dit nie genoeg om net die vieslike woorde te verander nie.  Die boodskap lê nie net in die woorde nie, maar in die styl.  ‘n Mens kan dus nie ‘n melodie gebruik wat die werke van die duisternis bevorder om Jesus se die lig mee te verkondig nie.  Dt.12:4, 30-31 sê dat ons nie die wêreld se metodes moet gebruik om die Here te aanbid nie.

 

‘Soos in die eerste duisend of meer jaar van die kerk se geskiedenis, behoort ons glad nie eers instrumente te gebruik nie,’ sal ‘n baie konserwatiewe gelowige vir jou sê.[2]  Persoonlik dink ek dat die vroeë kerk verkeerd was.

 

Volgens Paulus moet ons Psalms sing (v.16), en in Ef.5:19 sê hy dat ons dit met melodieë moet doen [Gk. psallō].  Die Griekse woord praat letterlik van iemand wat ‘n snaarinstrument pluk.  En as ons Psalms moet sing, sê Ps.150 dat ons die Here met allerhande instrumente moet prys.  Talle van die Psalms se opskrifte sê ook dat die lied met ‘n instrument begelei moet word.

 

Maar in dieselfde asem is dit nodig om te sê dat die instrumente nie die mense se stemme moet uitdoof nie.  Ons harte en stemme moet die hoof instrumente wees waarmee ons die Here loof en dank.

 

Die cresendo van gemeentesang

Cresendo beteken hoogtepunt of klimaks.  Volgens v.16 is God en sy heerlikheid die cresendo of klimaks van ons gemeentesang.  God het ons geskep en gered om Hom te verheerlik (Jes.43:7, 21, 1 Kor.10:31, 2 Kor.5:9, 15, Ef.1:6, 12, 14).

 

Dit is ook die rede hoekom ons nie soos Moslems, Hindoes en mense van ander godsdienste is nie – ons sing.  Dit kan nie anders nie.  God het ons oë oopgemaak om sy heerlikheid te sien; ons is bly dat Hy ons gered het.  Om dan nié die Here met lofliede te prys nie, is erger as moord en verkragting.

 

Gemeentesang is egter nie die enigste manier hoe ons die Here aanbid nie.  Ek ken ‘n ds. wat by ‘n ander gemeente gaan preek het.  Toe hulle klaar gesing het, het die musikante agter in die kerk op hulle steitjies gaan sit om te slaap.  Hy het voor die hele kerk vir hulle gesê:  ‘Gemeentesang is nie die enigste deel van aanbidding nie; Bybelse prediking is ook aanbidding – sit regop.’

 

‘n Vrou het eenkeer vir my gesê:  ‘As die musiek goed was, gee ek nie om of die preek sleg is nie.’

 

Die ds. in die eerste storie was reg, en die vrou in die tweede een verkeerd.  Ons moet die ABC van gemeentesang ken, sodat ons die Here met opregte harte kan prys.  Ons moet egter nie dink dat gemeentesang die A-Z van aanbidding is nie.  Om die Here reg te aanbid moet jy jou lewe aan Hom toewy (v.17, Rm.12:1).

 

[1] Lees gerus die drie artikels oor ‘The Gospel According to Hillsong’ by http://www.gty.org

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.68-69; Part 2, pp.169-171; Part 3, pp.229-230.

Die hemel se volkslied

Hallelujah-Chorus

Die wêreld weet nie wat halleluja beteken nie.  Jare gelede was daar ‘n populêre lied wat gesê het:  ‘It’s raining men, hallelujah!’  In sommige kerke dink mense nie mooi voordat hulle ‘halleluja’ of ‘amen’ sê nie.  Ek het ‘n diens bygewoon waarin mense ‘amen!’ geroep het toe die spreker sê:  ‘Ons staan agter op ‘n trok in Rusland…’

 

Wanneer ek dan in hierdie preek die woord ‘halleluja’ gebruik, bedoel ek dit nie as ‘n cliché nie, maar gebruik ek dit soos wat Johannes dit in Op.19:1-10 gebruik het.

 

Die eerste halleluja (v.1-2)

Omdat die woord ‘halleluja’ so algemeen in ons musiek voorkom, dink ons nie altyd mooi wat ons sê wanneer ons dit sing nie.  Dit was nie die geval in Op.19 nie.

 

Johannes het iets gehoor wat geklink het soos die stem van ‘n baie groot menigte in die hemel (v.1, 5:11-14, 7:9, 11:15).  ‘Halleluja!’ het hulle uitgeroep (v.1).  Ek het vroeër in die reeks gesê dat ‘halleluja’ slegs hier in die Nuwe Testament voorkom, en dat dit letterlik ‘prys Jah(we)’ beteken.

 

Waarvoor het hulle die Here geprys?

 

[1] Die mens se verlossing kom geheel en al van die Here af (v.1, Rm.8:29-30, 11:36, Ef.2:8-9).  Die Here het ook sy bruid van die prostituut se onderdrukking verlos (18:20).

 

[2] Omdat verlossing van die Here af kom, het hulle gesê dat die heerlikheid aan Hom behoort en aan niemand anders nie:  Soli Deo Gloria (v.1, Jes.48:11).

 

[3] Hulle het Hom ook geprys dat Hy die mag gehad het om te skep, te onderhou, die geskiedenis te beheer, te verlos en te oordeel (v.1).

 

Die rede hoekom hulle Hom so geprys het, is omdat Hy waaragtig en regverdig was toe Hy die groot prostituut genaamd Babilon – dit is, Jerusalem – geoordeel het (v.2, hfst.17-18).[1]  Dit was immers a.g.v. háár geestelike egbreuk dat die land [Gk. ] in ‘n moeras van immoraliteit verval het (v.2).

 

Verder was dit ook sý wat die bloed van die Here se diensknegte vergiet het, en daarom het Hy wraak geneem en haar geoordeel (v.2, 18:20, 24, 16:6, Dt.32:35, 41, 43, Lk.11:47-51, vgl. 2 Kon.9:7).

 

Die tweede halleluja (v.3)

Robert Murray McCheyne was ‘n Skotse prediker in die 1800’s.  Op 9 Nov. 1834 het hy gehoor dat iemand wat baie verkeerde lering versprei het, gesterf het.  Hy was bly oor die nuus.[2]  Toe ek dit gelees het was ek aanvanklik geskok.  Maar as ek dit met Op.19 vergelyk, besef ek dat hy reg was.

 

Die groot menigte van v.1 het weer ‘halleluja!’ geroep (v.3).  Jerusalem was soos Sodom, en daarom het haar rook soos Sodom s’n in die lug opgestyg (v.3, 11:8, 17:16, 18:8).  Die rook was ‘n voorsmakie van die ewige straf wat sy in die hel sou beleef het (v.3, 14:10-11, Jes.34:8-10, 2 Pt.2:6, Jud.7).

 

Hoe moet ons hierdie eerste drie verse toepas?  Soos die gelowiges in hierdie verse, sal jy ook die Here vir jou verlossing prys wanneer jy in die hemel is.  Jy sal geen krediet vir jouself neem, asof die bepalende besluit vir jou redding by jóú en jou vrye wil gelê het nie.  Jy sal verstaan dat Hý die Outeur en Voleinder van jou geloof is, dat Hý die goeie werk in jou begin en volbring het, en dat Hy jou gered het tot die lof van sý heerlikheid (Heb.12:2, Fil.1:6, Ef.1:6, 12, 14).

 

Jy sal Hom ook prys vir sy regverdige oordele oor OGOD en hulle ateïstiese ondersteuners, ISIS en ander Moslem-groepe, die Kommuniste, en die res van die kerk se vyande (v.2, Ps.58:11).  Jy sal bly wees dat jy nie self wraak geneem het nie, maar dat jy dit vir die regverdige God gelos het.  Jou lofprysing sal nie sadisties wees, sodat jy lekker kry oor jou vyande wat in die hel is nie.

 

Maar jy sal ook nie hartseer wees nie.  God se heilige grootheid, geregtigheid en almag sal so oorweldigend wees, dat dit alles oorskadu.  Jy sal sê dat dit goed en reg is dat Hy die kerk se vyande in die hel gewerp het.

 

Jy sal ook opnuut dankbaar wees dat Hy jou gered het, en dat jy nie saam met die goddelose in die hel is nie.  Jy sal besef dat jy die hel verdien het, en dat dit sy vrye genade is wat die verskil gemaak het.  Jy sal nie anders kan as om Hom vir ewig te prys in alles wat jy doen nie.

 

Die derde halleluja (v.4-5)

Ek het by twee geleenthede iemand in die hof gaan ondersteun.  By beide geleenthede het ‘n polisieman my aangespreek:  een keer omdat ek ‘n hoed op my kop gehad het, en die ander keer omdat ek teen die muur gestaan het.  En as die hof so ernstig was dat ek respek moes wys, hoeveel te meer is dit nie die geval in die hemel nie?

 

Die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens het voor die troon geval en die Here aanbid wat daarop gesit het.  Ek het in hfst.4 gewys dat die 24 ouderlinge ‘n rangorde van engele is, en dat die 4 lewende wesens gerubs is.[3]

 

Hulle het op hulle gesigte voor die troon geval en die Here aanbid (v.4).  Hulle ‘amen’ het die groot menigte van v.1-3 se ‘halleluja’ ge-eggo (v.4).  Dit is asof hulle gesê het:  ‘Dit ís so; ons stem saam dat die Here geprys moet word.’

 

Daar het ‘n stem van die troon af gekom:  “Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!” (v.5).  Die stem wat van die troon af gekom het was Jesus s’n.  In sy menslike natuur was die Vader ook sý God, en het Hy Hom geprys (Ps.115:1, Jh.20:17, Ef.1:3, 17, Heb.2:12).  Hy het vir God se knegte, vir die wat Hom vrees, gesê om Hom te prys (v.5, 1-10).  Dit het vir almal gegeld, klein en groot (v.5, 11:18).  Dit is tog hoekom Hy hulle gemaak het (Ps.148:2, 11-14, Jes.43:7, 21).

 

En as jy hiervoor geskep is sal jou siel nie rus, totdat jy dit doen nie.  Ek bedoel nie net dat jy ‘Jesus-liedjies’ moet sing nie, maar dat jy deur tydsame gebed en bepeinsing in ‘n verhouding met die Here moet leef.  As jy dit gereeld doen sal jy op een of ander stadium ‘n diep ervaring met die Here hê, sodat jy nie anders kan as om Hom te prys nie.

 

Eers dán sal jy besef dat ware lofprysing die hoogste piek is wat jy ooit in hierdie wêreld en in die volgende een sal bereik.  Ewe skielik sal die plesiere van hierdie wêreld vir jou leeg en hol wees.  Jy sal agterkom dat drank, vriende, jou huweliksmaat en kinders, seks, rykdom, nuwe goed, ‘n ander werk, lekker kos, populariteit en aansien, akademiese grade, jou net tydelik gelukkig kan maak.  Om ware vervulling, satisfaksie en versadiging te hê, moet jy die Here prys.  Dit kan nie anders nie, omdat Hy jou hiervoor gemaak het.

 

Die vierde halleluja (v.6-9)

Wanneer iemand in Johannes se tyd verloof geraak het, moes hy ‘n bruidsprys aan die bruid se pa betaal het.  Verlowing was meer bindend as wat dit vandag is; dit moes met ‘n amptelike skeibrief verbreek word (Mt.1:18-25).

 

As die man klaar verloof geraak het, het hy vir ‘n kort tydjie weggegaan om alles gereed te kry vir die troudag.  As dit gereed was, het hy sy bruid kom haal en haar na sy huis toe gevat.

 

Hulle het vir sewe dae fees gevier, en aan die einde daarvan beloftes uitgeruil.  Daarna het hy haar in sy huis ingebring.[4]  Dit sal help om hierdie agtergrond in gedagte te hou wanneer jy v.6-8 bestudeer.

 

Johannes het weer ‘n stem gehoor wat soos ‘n groot menigte klink, soos die gedreun van baie waters en soos die geluid van harde donderslae (v.6, 14:2).  Hulle het die Here met ‘n ‘halleluja’ geprys, omdat Hy as die Almagtige God regeer het (v.6).  Sy aardse Koninkryk het begin toe Jesus na die hemel toe opgevaar het en dit in sy Naam geregistreer is; dit sal oor die wêreld versprei en by die wederkoms vervul word (hfst.5, 11:15, 17, Ps.2:6-8, 110:1, Dn.2:35, 7:13-14, Mt.4:17, 6:10, 12:28, 28:18, Lk.10:9, 17:21).

 

Net so het Jesus se huwelik by sy eerste koms begin, en sal dit by die wederkoms vervul word (v.7, Mt.9:15).  Kom ek verduidelik dit so:

 

Omdat Israel aanhoudend in die Ou Testament egbreuk gepleeg het, het die Here haar met ‘n skeibrief weggestuur (Jer.3:1-8, Mt.19:9).  Hy het haar egter vergewe en teruggevat (Hosea).  Maar in 16:21 en 17:16 het Hy genoeg gehad, sodat Hy die prostituut gestenig en verbrand het (Dt.22:22, Lv.21:9).

 

Dit het in 70 n.C. gebeur toe Hy die tempel met sy priesters en offers verwoes het, en so die ou verbond met Israel finaal tot ‘n einde gebring het (Heb.8:13, 10:9).  Maar dit is nie asof sy huwelik misluk het nie.  God se ware bruid was nog altyd dié wat in Christus geglo het, en nie dié wat as Jode gebore is en besny is nie (Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 16, 29).

 

God het in 21:2, 9, Jes.54:5, 62:5 gesê dat die hemelse Jerusalem (die kerk volgens Gal.4:26) sy bruid is.  Deur sy dood het Hy die bruidsprys betaal, en toe sy in Hom geglo het, het Hy aan haar verloof geraak (Ef.5:22-33, 2 Kor.11:2).

 

Hy het opgevaar hemel toe om alles gereed te kry vir die troudag.  Sy het ook moeite gedoen om haarself gereed te kry, deurdat sy die blink wit trourok van haar heilige en gehoorsame dade aangetrek het (v.7-8, 3:4-5, 14:4, 1 Jh.3:3).  Deur sy kruisdood het Jesus hierdie fyn linne trourok vir haar gekoop (v.8, 7:14, Gn.3:21, Ps.132:9, Sp.31:22, Jes.61:10).

 

Die punt is dat die Here sy bruid instaatgestel het om goeie werke te doen, maar dat dit sý is wat dit moes doen (v.7-8, Ef.2:10).  God se bruid moes haarself vir die hemel voorberei, maar die Here sou gegee het wat nodig was om dit te doen (Fil.2:12-13).

 

Dit beteken nie dat sy vir die hemel moes wag om fees te vier nie.  Volgens die Bybel bestaan die fees ten minste uit drie disse, en is dit so te sê ‘n driegang maaltyd.

 

  • Wanneer iemand tot bekering kom, geniet sy in die Woord, die gemeenskap van gelowiges, die nagmaal en gebed ‘n ete met die Here (3:20, Lk.10:39, 42, Hd.2:42, 1 Kor.5:8).
  • Wanneer ‘n Christen doodgaan, gaan sy dadelik hemel toe. Daar het sy ‘n voller ervaring van die feesmaal saam met Jesus (v.7, Mt.26:29, Jh.14:2-3, Fil.1:23).
  • Wanneer Jesus weer kom, sal sy vir ewig die finale dis van die feesmaal saam met Hom geniet (Jes.25:6).

 

Is dit enige wonder dat die bruid in v.7 bly was en die Here verheerlik het?  Is die bruid se blydskap joune?  Is jy reg om by die feesmaal aan te sit?  Is die klere van jou lewe rein?  Het jy dit wit gemaak in die bleikmiddel Jesus Christus se bloed, en hou jy dit so deur ‘n heilige lewe van gehoorsaamheid?

 

Jy kan ander mense flous, omdat jy elke Sondag in die kerk sit en godsdienstige dinge doen.  Maar jy kan nie die Koning flous nie – Hy sien dwarsdeur jou.  Hy weet of jy in die kerk, huis, huwelik, skool, werkplek, en vriendekring die wit klere van ‘n rein hart en ‘n heilige lewe aan het of nie (Mt.22:11-12).  As jy dit nie aan het nie, sal jy uit die kerkbanke uit hel toe gaan (Mt.22:13).

 

Sorg daarom dat jy voortdurend die wit klere van ‘n heilige lewe aan het.  Moet egter nie dink dat jy dit self so wit gekry het nie.  Jy weet goed dat Jesus hierdie wit klere vir jou gegee het.  As jy dit nog nie het nie, moet jy vir Hom vra om jou uit die modderpoel van jou sonde te red, jou in die fontein van sy bloed te was, en vir jou die wit klere van sy geregtigheid aan te trek.

 

Só kan jy weet dat Hy jou na die troue toe genooi het, en is jy baie geseënd (v.8-9).  Soos wat jy jóú huweliksmaat en gaste gekies het, het die Here sýne gekies.  Beskou dit dan as ‘n voorreg en nie as ‘n reg nie dat Hy jou gekies het om deel van sy bruid te wees, en dat Hy jou na die troue toe genooi het (v.9, Mt.22:14, Hd.13:48).[5]

 

Dank ook die Here dat hierdie nie maar net ‘n feëverhaal is soos Sneeuwitjie of Aspoestertjie nie.  Alles wat die engel vir Johannes gesê het is God se ware woorde (v.9).

 

Die laaste halleluja (v.10)

Omtrent 15 jaar gelede het ‘n vriend van my tot bekering gekom.  Hy het vir my gesê dat ek sy lewe gered het.  Ek het mooi aan hom verduidelik dat dit die Here was en nie ek nie.

 

Iets soortgelyk het in v.10 gebeur.  Johannes was so verwonderd dat hy probeer het om die engel te aanbid.  Hy het as’t ware voor die engel se voete geval en ‘halleluja’ gesê.

 

Die engel het hom dadelik gekeer en gesê dat hy God se slaaf is net soos Johannes en die profete wat van Jesus getuig het (v.10, 5, 22:8-9, Hd.10:25-26).  As Jesus dan die middelpunt van hulle boodskap was, moes Johannes Hóm aanbid het en nie die engel nie (v.10, Lk.24:25-27, 44-45, Jh.5:46).

 

Ons moet God alleen dien:  ons mag nie tot engele bid of hulle aanbid nie, hetsy gevalle engele of heilige engele (v.10, 22:8-9, Eks.20:3, Mt.4:9-10, Kol.2:18).  Ons mag ook nie ‘n ds. vir sy preke of bediening prys, asof hy die Here is wat hierdie dinge doen nie.  Verder mag geen ds. of lidmaat mense versoek om hulle te prys nie, maar moet Jesus die middelpunt van hulle boodskap en lewe wees (v.10).

 

Ten slotte moet ek sê dat enige siening oor Openbaring wat op die fyn besonderhede van die eindtyd fokus en nie op Jesus nie, glad nie oorweeg moet word nie.  ‘n Siening wat jou bang maak en jou nie dryf om ‘halleluja!’ te sê nie, eggo nie die hemel se volkslied nie en mis die punt.

 

[1] Sien my preek, Die Lam, die Prostituut en die Antichris vir ‘n bewys dat die prostituut of Babilon ‘n skuilnaam vir Jerusalem is.

[2] Iain Murray, The Puritan Hope, p.194

[3] Sien my preek, ‘n Visioen van die hemel.  Daarin het ek gewys dat die lewende wesens ooreenstem met die gerubs in Esg.1, 10.  Ek het ook gewys dat die 24 ouderlinge op trone gesit het, en dat Paulus in Kol.1:16 van sommige hemelwesens as ‘trone’ praat.  Volgens party is die 24 ouderlinge ‘n voorstelling van al die gelowiges in die Ou- en Nuwe Testamente, en is die 4 lewende wesens simbolies van die hele skepping.  Ek huldig nie hierdie siening nie, omdat Johannes in Op.7:9, 11 tussen die 24 ouderlinge en die gelowiges in die hemel onderskei.

[4] William Hendriksen, More than Conquerors, p.215

[5] Ek dink nie Johannes probeer om tussen die bruid en die genooide gaste te onderskei nie.  Christene is die bruid en die gaste wat na die troue toe genooi is, net soos wat Jesus in 7:17 die Lam en die Herder is.

Die Lam, die Prostituut en die Antichris

Revelation 17

Toe ek in die laerskool was, het my vriend se pa altyd gesê:  ‘And there we were, four against a thousand – and boy did we give those four a hiding.’  Toe die kerk se vyande in Op.17 teen haar geveg het, was dit andersom.  Alhoewel die vyand in die meerderheid was, het hulle aan die kortste end getrek.  Dit kon nie anders nie, omdat Jesus vir sy bruid baklei het.

 

Johannes se beskrywing (v.1-6a)

As kinders het ons probeer om ons eie kodetaal te skryf.  ‘n Driehoek was bv. ‘n ‘A’, twee sirkels ‘n ‘B’, ‘n sterretjie ‘n ‘C’, ens.  Ons het ‘n brief in simbole geskryf, en onderaan die bladsy die ‘kode’ of gepaste letter vir elke simbool gegee.

 

Alhoewel Johannes dit nie heeltemal so gedoen het in Openbaring nie, het hy simbole gebruik wat sewe gemeentes verstaan het.  Hulle kon die Ou Testament nageslaan het om dit uit te werk.

 

Die soldaat wat Johannes se brief afgelewer het, sou bv. nie geweet het dat die monster in hfst.13 die Romeinse Ryk is, en dat Nero die 666 is nie.  So sou Johannes en die gelowiges in Asië nie verder in die moeilikheid gekom het nie.

 

In 17:1 het een van die engele wat die sewe bakke gehad het vir Johannes die prostituut gewys; in 21:9 het hy vir hom die bruid gewys.  As die bruid die hemelse Jerusalem was (21:2, 10), was die prostituut seker die aardse een.  Dit lyk of Johannes, soos Paulus in Gal.4:25-26, die twee met mekaar kontrasteer.  Ek sal later vir jou wys hoekom ek so sê, asook wat dit beteken dat die prostituut op baie waters gesit het (v.1).

 

Die engel het vir Johannes gewys dat Christus die prostituut vir haar geestelike egbreuk gaan oordeel (v.1-2, hfst.17-18, Jes.1:21, Jer.2:20, Esg.16, 23, Hosea).  In die Ou Testament het die konings en bewoners van die aarde of land [Gk. ] egbreuk met haar gepleeg (v.2).  Met die wyn van haar versoeking het sy hulle dronk gemaak sodat hulle makliker egbreuk sou pleeg (v.2, Jer.51:7, vgl. Gn.19:32-35).

 

Om hierdie dinge vir Johannes te wys, het die engel hom in die Gees na die woestyn toe weggevoer (v.3, kontr. 21:10).  Die boodskap is dat die prostituut geestelik dor was, asook dat God haar weer in die woestyn ingelei het om haar te straf (Dt.32:10, Nm.14, Jer.2:2).

 

Die vrou het op ‘n skarlakenrooi monster gesit (v.3).  Die dier of monster het sewe koppe, tien horings en lasterlike name gehad (v.3).  Ek het reeds in hfst.13 gewys dat die dier of Antichris die Romeinse Ryk met haar keisers is; ek sal later meer hierop uitbrei (vgl. Dn.7:17).  Die dier se lasterlike name herinner ons daaraan dat die Romeinse keisers hulle onderdane gedwing het om hulle as here [Gk. kurios] of god [Lat. Deus] aan te spreek.[1]

 

Die vrou se verbintenis met die dier wys vir ons hoe Jerusalem en Rome saamgewerk het om vir Jesus en sy volgelinge dood te maak (Jh.18-19, Hd.21-28).  Die vrou se rok was rooi met die bloed van God se kinders (v.4, Jer.2:34).

 

Om die nasies te mislei, het haar rooi-pers rok met goud, juwele en pêrels soos die Nuwe Jerusalem, Aäron se klere, en die tabernakel gelyk (v.4, 18:16, 21:9-21, Eks.25-28, Jer.4:30).  Uiterlik was sy godsdienstig; sy was so mooi soos ‘n beker wat van suiwer goud gemaak is (v.4).  In haar hart was sy egter so korrup soos die gruwelike onreinheide wat binne-in die goue beker was (v.4, Mt.23:25-28).

 

Die naam op haar voorkop het vir almal gewys wie sy regtig is:  “die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.” (v.5, Jer.3:3, kontr. Eks.28:36).  As ma van die prostitute het sy vir haar dogters in die land [Gk. ] geleer hoe om geestelike egbreuk te pleeg (Esg.16:44-48).  Op hierdie manier het Jerusalem so heidens geword soos Babilon.

 

Omdat sy die bloed van Jesus se heilige getuies gestort het, het Hy vir haar bloed gegee om te drink sodat sy dronk geword het (v.6a, 18:20, 24, 16:6, Mt.27:25, Lk.11:47-51, 13:33-34, Hd.7:51-52, 58, 8:1-3, 1 Ts.2:14-16).

 

Die engel se verduideliking (v.6b-18)

In John Bunyan se Pilgrim’s Progress stel die karakters verskillende idees voor.  Bunyan se oorspronklike name, kleurvolle karakters en hope teksverwysings, maak dit maklik om die betekenis uit te werk.  Ons weet bv. dat Giant Despair en Doubting Castle na ‘n Christen se stryd met twyfel en depressie verwys, terwyl By-Path Meadow net ‘n ander manier is om van ‘backsliding’ te praat.

 

Op ‘n soortgelyke wyse het die engel in Op.17 vir Johannes die beeld van die prostituut en die monster verduidelik.  Johannes het hom verwonder toe hy die vrou gesien het (v.6b).  Is sy punt dat die duiwel, die wêreld en sonde ons maklik kan mislei (Gn.3:6, 2 Kor.11:14, 1 Jh.2:15-16)?  Of was hy verwonderd omdat hy nie geweet het wat dit beteken nie?  En is dít dalk hoekom die engel hierdie dinge in v.7-18 verduidelik het?

 

Wat die prostituut, asook die dier met die sewe koppe en die tien horings betref, het die engel die volgende vir Johannes gesê (v.7):

 

[1] ‘Die dier was, is nie meer nie, en sal weer uit die bodemlose put uit opkom’ (v.8, kontr. 1:8).  Dit is vervul toe keiser Nero selfmoord gepleeg het.  Vir 18 maande het dit gelyk of die Romeinse Ryk op sy laaste is.  Die Ryk het dit egter oorleef.  Toe Vespasianus wat aan bewind gekom het, het die dier se dodelike wond – keiser Nero wat dood is – gesond geword (13:3, 12, 14).

 

Hieroor sou die ongelowige Jode in die land [Gk. ] hulle verwonder het, almal wie se name nie voor die skepping in die Boek van die Lewe geskryf is nie (v.8, 13:3).  Maar die Ryk sou nie gehou het nie, want in 410 n.C. het God die Wes-Gote gestuur om dit te vernietig (v.8, 11).[2]

 

[2] ‘Die gelowiges het God se wysheid en kan die betekenis van die dier se sewe koppe en tien horings uitwerk (v.9, vgl. 13:18).  Die sewe koppe is sewe berge waarop die vrou sit’ (v.9).  Ons weet dat Rome op sewe berge gebou is.  Die les is weereens dat Jerusalem op Rome se rug gery het om die gelowiges dood te maak.

 

Die engel het verder gesê dat die sewe koppe sewe konings is.  Vyf van hulle het reeds tot ‘n val gekom, een was aan bewind toe Johannes Openbaring geskryf het, en een sou binnekort op die toneel verskyn het (v.10).  As die nuwe koning gekom het, sou hy vir ‘n kort tydjie regeer het.

 

Die geskiedenis leer vir ons dat daar vyf keisers voor Nero was:  Julius, Augustus, Tiberius, Caligula en Claudius.  Nero was die sesde een, en na hom het Galba vir omtrent sewe maande regeer.[3]  So het die Here v.10 vervul.

 

Omdat die dier van die Romeinse Ryk (nr.8 volgens v.11) een was met die sewe keisers, het dit gelyk of die kerk nie eintlik ‘n kans gehad het om te oorleef nie.  Die waarheid is egter dat dit die Ryk was wat tot ‘n val gekom het (v.11).

 

[3] ‘Die tien horings is tien konings’ (v.12).  Dit verwys na konings soos Herodes wat onder die keiser oor die Ryk se tien keiserlike provinsies geregeer het, nl. Italië, Agaje, Asië, Sirië, Egipte, Afrika, Spanje, Gallië of Frankryk, Brittanje, en Germanië of Duitsland.[4]  Vir ‘n kort tydjie (‘n uur) het die dier aan hulle die gesag gegee om God se kinders dood te maak (v.12-14, 2:10, 13).

 

Maar selfs toe hulle as een man saamgewerk het (v.13, Hd.4:27-28, Lk.23:12), kon hulle nie die Lam en sy volgelinge oorwin het nie (v.14).  Jesus is die Koning van die konings en die Here van die here; daarom het die Romeinse Ryk ondergegaan en bestaan die kerk nogsteeds (v.14, 19:16, Dt.10:17, Dn.2:47, Mt.28:18).

 

God het die kerk gekies en deur die evangelie na Homself toe geroep (v.14, Rm.1:6, 8:28-30).  Hy sal ook daarvoor sorg dat kerk nie ontrou word soos Israel nie, maar ‘n getroue bruid bly (v.14).

 

[4] ‘Die water waarop die prostituut gesit het is ‘n menigte van volke, nasies en tale’ (v.15, 1, Ps.65:8, Jes.17:12-13).  Jerusalem het met die nasies gehoereer, maar soos in Esg.16:35-41, 23:25-29, 47 het hulle haar gehaat, verwoes, kaal uitgetrek, verslind en met vuur verbrand (v.16, 18:8, 17, 19, 19:18, Lv.21:9).  Dit is in 70 n.C. vervul toe die Romeine Jerusalem verwoes en verbrand het, en in die res van die Ryk tienduisende Jode geslag het.[5]

 

So het die dier van die Romeinse Ryk met haar keisers en konings – sonder dat hulle dit besef het – God se plan teen die Jode uitgevoer en sy profesieë vervul (v.17, Jes.10:5-7, 46:9-11, Ef.1:11).  Jesus het gesê:  “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is… Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.” (Lk.21:20, 22).

 

[5] ‘Die vrou is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde’ (v.18).  In 11:8 het Johannes gesê dat Jerusalem die groot stad is (vgl. Jer.22:8), en in v.18, 18:10, 16, 18-19, 21 word Babilon die groot stad genoem.

 

Die Babilon van die Ou Testament het nie meer bestaan nie, en sou volgens Jes.13:19-20 ook nie weer herbou word nie.  Die les is dan dat Jerusalem so heidens geword het soos Babilon.  Babilon is dus ‘n skuilnaam vir Jerusalem.

 

Volgens die engel het die groot stad, dit is Jerusalem, oor die konings van die aarde of land [Gk. ] geheers (v.18).  Jerusalem was die sondebok wat haar afgodery na die res van die land toe versprei het, en in haar het die konings van Israel hulle sonde gepleeg.

 

Wat is Johannes se punt in hierdie hoofstuk, en hoe moet ons dit toepas?  Die sentrale gedagte is dat prostitute en monsters, Jerusalem en Rome, vals gelowiges en ongelowiges vir Jesus haat.  Maar omdat hulle nie by Hom kan uitkom nie, sal hulle sy kinders vervolg en doodmaak.  Hulle sal egter nie suksesvol wees nie, want as Koning van die konings en Here van die here sal Hy hulle oorwin en vernietig (v.8, 11, 14, 16).

 

Die boodskap is dat Jesus en die Christelike geloof nie oorwin kan word nie, maar dat hulle die vyand sal oorwin (v.14).  Selfs as daar net een gemeente op die aarde oor is, sal sy – soos Dawid teen Goliat, en Gideon se bende van 300 teen ‘n groot menigte – teen alle verwagtinge opstaan, die stof van haar klere afskud, en in Jesus se krag die vyand met ‘n uitklop hou teen die grond slaan:  “want by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie. “ (1 Sm.14:6).

 

Die kerk sal oorwin en die evangelie sal suksesvol wees.  Die poorte van die hel kan nie teen die kerk standhou wanneer sy met die swaar houtpale van die evangelie en gebed daarteen storm nie.  Uiteindelik moet die kerk deurbreek, en sal Jesus miljoene gevangenes uit die mag van Satan bevry om só sy kerk te bou (Mt.16:18).

 

Ek kan nie meer aan eindtydsieninge vashou wat sê dat die kerk dit net-net gaan maak, en dat sy voor die wederkoms by verre in die minderheid gaan wees nie.  William Hendriksen (wat andersins ‘n baie goeie kommentator is) sê bv. dat die kerk in haar evangelie-getuienis totaal oneffektief en vernietig sal wees voordat Jesus kom.[6]

 

Maar kon Jesus sy vyande aan die kruis oorwin het, en dit nie deur die res van die geskiedenis doen nie?  En kon Hy in 70 en 410 n.C. sy kerk se vyande in die nek geslaan het, en dit nie weer doen nie?  Volgens Ps.110:1 sal Hy aan die regterhand van die Vader heers, totdat al sy vyande onder sy voete is.

 

Deur Christus se krag sal die kerk triomfeer oor die heidene wat haar vervolg (die dier), asook oor dié wat dat hulle aan God behoort, maar teen haar is (die prostituut).

 

Dwarsdeur die Ou Testament het God sy volk se vyande oorwin en gemaak dat hulle vandag nie eers meer ‘n faktor is nie:  die Egiptenare, die Amalekiete, die Filistyne, die Assiriërs, die Babiloniërs, die Meders en die Perse, die Grieke en die Romeine.

 

Ook in die Nuwe Testament het God Judaïsme, Gnostisisme en talle ander vals leringe met die besem van sy dissipline uit die kerk uitgevee, sodat dit nie meer ‘n ernstige bedreiging is nie.

 

En in óns dag sal Jesus elke vuil ‘-isme’ en ander vals lering uit die kerk uit verwyder.  Hy sal nie toelaat dat die invloed van ateïsme, Islam, Kommunisme, die Word of Faith beweging, postmodernisme, die Hebrew Roots dwaling, of enige ander vyand sy kerk tot niet maak nie.

 

Watter ordentlike man sal toelaat dat iemand sy vrou verniel en die oorhand oor haar kry?  Hoekom sal Jesus dit dan doen?  Ek weet nie of ons aldag lekker besef hoe lief Jesus vir sy bruid is nie.  Volgens Ef.5:25 het Hy haar só liefgehad, dat Hy sy lewe vir haar gegee het.

 

As jy nie deur geloof en bekering deel is van sy bruid nie, beteken dit jy is teen haar.  En as jy teen Jesus se bruid is, sal Hy jou doodmaak soos Hy dit met die prostituut en die dier gedoen het.  Besluit vandag aan wie se kant jy wil wees.

 

[1] David Chilton, The Days of Vengeance, p.136

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.287

[3] Ibid., p.175

[4] Chilton, p.175.  Chilton het sy inligting verkry uit F.W. Farrar, The Early Days of Christianity, Chicago and New York, Belford, Clarke & Co., 1882, p.532.

[5] Ibid., pp.176-177

[6] William Hendriksen, More than Conquerors, 1947, p.178 aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, p.275 n.32

Hoe moet ons dissipline toepas?

church-discipline

Ek is al vir 12½ jaar in ons gemeente, en nog nooit het die ouderlinge vir my gevra om oor ‘n spesifieke onderwerp te preek nie. Maar by hierdie week se vergadering het hulle vir my gevra om oor kerkdissipline te preek, omdat daar nog mense in die gemeente is wat dit nie verstaan nie.  Die duidelikste lering hieroor vind ons in Mt.18:15-20.

 

Die stappe van dissipline (v.15-17)

In my gesprekke met mense hoor ek dat daar dissiplinêre prosesse by hulle skole, besighede en maatskappye is. Iemand word nie summier afgedank nie – daar is ‘n proses wat gevolg moet word.

 

En so is dit ook in die kerk. As God se kinders hulleself nie kan dissiplineer om van hulle sonde ontslae te raak nie (v.7-9), is daar ‘n proses in plek om die Here se verlore skape terug te bring (v.15-17, 10-14).

 

Moenie dink dat dit eers dissipline is wanneer die persoon se naam voor die gemeente genoem word nie. Om een tot een met iemand oor sy sonde te praat (bv. in berading) is ook dissipline.  Hoe lyk hierdie proses in die praktyk?

 

Stap 1: Gaan alleen

Jesus praat hier van ‘n broer wat sonde doen (v.15), van iemand wat deel is van die gemeente (v.17).  Kerkdissipline is dan nie vir ongelowiges bedoel nie, maar vir gelowiges (1 Kor.5:12-13, Heb.12:6-8).  Dit is die Here se voorreg aan hulle om hulle te help as hulle van die pad afgedwaal het.

 

Jesus gee nie ‘n spesifieke lys van sondes waarvoor ons dissipline moet toepas nie. In hierdie verse gaan dit oor enige sonde waarin ‘n Christen volhard.  Maar moet my nie verkeerd verstaan nie.  Hier gaan dit nie oor ‘n gelowige wat sy sonde haat en daarteen stry, maar vir jare daarmee sukkel nie.  In v.16 staan daar letterlik dat die broer glad nie wil luister nie [Gk. ], en volgens v.17 weier hy om na die getuies en na die gemeente te luister [Gk. parakouō].

 

Dit gaan dus oor iemand wat opsetlik en moedswillig met sy sonde aanhou (selfs iemand wat dat hy wil ophou, maar nie regtig ‘n ernstige poging aanwend om dit te doen nie).

 

Wie se plig is dit om die dissipline toe te pas? Myne.  Joune.  Elke gelowige s’n.  Dit is nie net die ouderlinge se taak om dit te doen nie.  As jou broer teen jou gesondig het, moet jy na hom toe gaan (v.15).  Ook die twee of drie getuies van v.16 kan enige gelowiges in die gemeente wees.

 

Maar moet jy by die proses betrokke raak as die persoon nie direk teen jóú gesondig het nie? Dalk het die persoon nie direk teen jou gesondig deur van jou te skinder nie.  Maar as 15-jarige Fanie verslaaf is aan dwelms, sondig hy indirek teen sy ouers omdat hy húlle naam deur die modder sleep.  En so is dit ook in die gemeente.  Daarom geld kerkdissipline nie net wanneer iemand direk teen jóú gesondig nie.

 

Wat moet jy doen as jy uitvind dat iemand besig is met sonde? Moenie net vir die persoon bid nie, maar gaan na hom toe (v.15).  Sonde verblind en verlei ons (Jer.17:9, Heb.3:13), sodat ons dit nie raaksien nie.  Soms is dit nodig dat iemand dit vir jou moet uitwys.  Ons is geneig om vir ander te vertel wat die persoon gedoen het, eerder as om direk na haar toe gaan.  Maar dit hoort nie so nie:  gaan na die persoon toe en praat met haar – alleen (v.15, Lv.19:16-17).

 

Voordat jy dit doen moet jy seker maak dat jy die gesindheid van Jesus het: wees nederig en sagmoedig, en let op jouself dat jy nie óók versoek word nie (Gal.6:1-2).  As die persoon vir jou geluister het, het jy hom vir die Here gewen (v.15, Jk.5:19-20).  Dit is tog die doel van dissipline:  om gelowiges wat in die put van sonde beland het uit te help, omdat hulle dit nie op hulle eie regkry nie.  As die persoon hom dan bekeer het, is dit nie nodig vir verdere dissipline nie – al het hy ook seksuele sonde gepleeg of dronk geword.

 

Soms is daar egter gevalle waarin ons dadelik vir die gemeente sê, omdat almal reeds van die persoon se sonde weet.  Die dissipline moet so publiek wees soos die sonde.  Daar is uitsonderlike gevalle waarin ons ‘n persoon onmiddellik van die gemeente moet afsny.  As ‘n lidmaat bv. ‘n skoolmeisie ontvoer, verkrag en doodmaak, neem ons aan dat hy ‘n ongelowige is, en sny ons hom dadelik van die gemeente af (vgl. 1 Kor.5).

 

Stap 2: Vat getuies saam

Iemand wat ná stap 1 nie wil luister om hom te bekeer nie, het verdere hulp nodig. Daarom moet jy een of twee persone saamvat as jy met die persoon gaan praat (v.16).  “in die veelheid van raadgewers is redding.” (Sp.11:14).  “Twee is beter as een” (Pd.4:9).

 

Hierdie mense hoef nie getuies van die persoon se sonde te wees nie, maar moet o.a. insit sodat dit nie uiteindelik jou woord teen hare is indien dit dalk voor die gemeente moet kom nie (Dt.19:15). Anders sal mense rede hê om agterdogtig te wees en te dink dat jy ‘n persoonlike vendetta teen die persoon het.

 

Stap 3: Sê vir die gemeente

Die gemeente is die gelowiges wat hulleself deur lidmaatskap tot ‘n spesifieke liggaam toe verbind het. In ons konteks vra ons hulle na die erediens om vir ‘n paar minute agter te bly.  Ons sê vir hulle wat aan die gang is (v.17a).  Volgens die Bybelse vereiste noem ons die persoon se naam, asook die sonde wat hy gedoen het (1 Kor.5:1, 1 Tm.1:20, 2 Tm.2:17-18, 3 Jh.9-10, Op.2:20).  Die gemeente hoef nie al die lelike detail te weet nie, maar ons sê vir hulle genoeg dat hulle kan weet dit is ernstig.  Op hierdie punt sny ons nie die persoon af nie, maar ons vra dat die gemeente sal probeer om hom terug te wen.

 

Stap 4: Sny die persoon af

As die persoon ná stap 1-3 nogsteeds nie na die gemeente wil luister nie, moet ons hom afsny. Volgens Jesus moet ons hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar beskou (v.17b).  Die Jode het die heidene en tollenaars as onrein beskou (Jh.18:28), en sou ook nie saam met hulle geëet het nie (Mt.9:11, Hd.11:2-3).  Wat beteken dit prakties vir ons?

 

[1] Ons moet die persoon vermy (Rm.16:17, 2 Tm.3:5). Ons moenie geselsies met hom aanknoop of saam met hom kuier nie.

 

[2] Ons moet ons van hom onttrek en geen gemeenskap met hom hou nie (v.17b, Ef.5:11, 2 Ts.3:6, 14, Tit.3:10). Ons moet hom nie by die eredienste, Bybelstudies, bidure en ander gemeentebyeenkomste verwelkom nie.

 

[3] Ons moet hom uit ons midde verwyder, sodat hy nie meer ‘n lidmaat van die gemeente is nie (1 Kor.5:2, 7, 13).

 

[4] Ons moet hom aan die Satan oorlewer (1 Kor.5:5, 1 Tm.1:20). Dit beteken o.a. dat hy nou in die wêreld lewe en nie meer deel het aan die voorregte, vreugdes en beskerming van die Here Jesus se gemeente nie (1 Jh.5:19).

 

As ek 15 jaar jonger was, sou ek gesê het dat hy nou vir homself moet ‘fend’. Al verantwoordelikheid wat ons teenoor die persoon het, is om vir hom te bid en om die evangelie met hom te deel.

 

[5] Ons moenie met hom assosieer of saam met hom eet nie (v.17b, 1 Kor.5:11). Dit beteken dat ons nie saam met hom die nagmaal moet eet nie.  Ons moet ook nie op ‘n vriendskaplike basis saam met hom koffie drink of braai nie.

 

Die doel van hierdie streng optrede is om…

 

  • Te keer dat die persoon se sonde die res van die gemeente beïnvloed (1 Kor.5:6-7).
  • Ons bang te maak dat ons nie dieselfde paadjie loop nie (1 Tm.5:20),
  • Die Here se Naam te beskerm, sodat die wêreld nie met Hom spot nie (Rm.2:24).
  • Die persoon skaam te maak en tot sy sinne te bring, sodat hy hom bekeer (1 Kor.5:5, 2 Ts.3:14).

 

Die gesag van dissipline (v.18-20)

Mense hou nie van dissipline nie; hulle soek dit nie. In ons eie gemeente het mense al gevra dat ons daarmee moet wegdoen.  Ander het al vir hulle ‘n nuwe gemeente gaan soek, omdat hulle nie daarvan hou nie.

 

Ek het eenkeer ‘n e-pos gekry waarin die persone gesê het hulle soek ‘n God van liefde, en nie ‘n God van dissipline nie (sien Heb.12:6, Op.3:19). Mense het al vir my gesê:  ‘Wie gee vir julle die reg om dit te doen?’

 

Volgens v.18-20 gee Jesus vir ons die reg om dit te doen; ons doen dit met sý goedkeuring.  Dit wat ons op die aarde bind, is ook in die hemel gebind (v.18 vgl. 16:19).  Anders gestel:  wanneer ons op die aarde iemand van die gemeente afsny, is die God van die hemel besig om hom te tugtig.  Dus is kerkdissipline nie bloot ‘n formaliteit nie – die Here dissiplineer regtig die persoon.

 

Die vers impliseer ook dat die persoon wat van die gemeente afgesny is onder die Here se dissipline bly totdat sy haar bekeer.  Dit help dan nie dat sy haarself wip en na ‘n ander gemeente toe gaan nie.

 

Verder sê Jesus dat dit wat op die aarde ontbind is, ook in die hemel ontbind is (v.18). M.a.w., as die persoon hom regtig bekeer het en hy deur die gemeente vergewe en herstel word, sal die Here hom nie verder tugtig nie, maar die swaar hand van sy dissipline lig.  Die Griekse konstruksie wys eintlik dat die gemeente optree, omdat die Here reeds in die hemel die proses aan die gang gesit het.[1]

 

Jesus bevestig dat gelowiges wat op die aarde is, die hemel se gesag het om sy dissipline toe te pas (v.19).  Waar die twee getuies van v.16 oor die dissipline saak saamstem, sal die Here hulle hulpgeroep hoor en hulle beantwoord (v.19).  Die gebed in v.19 het niks te doen met ‘n biduur nie; dit gaan oor kerkdissipline.

 

As ons dan enigiets in hierdie spesifieke verband vra, sal ons Vader wat in die hemel is ons gebede beantwoord (v.19). Gebed is dan ‘n belangrike aspek van kerkdissipline.  As ons die Here aanroep, sal Hy vir ons die nodige krag gee om hierdie moeilike proses deur te sien (v.19).

 

Hy sal self ook by ons teenwoordig wees wanneer ons in sy Naam vergader het om dissipline toe te pas (v.20, 1 Kor.5:4). Waar die twee of drie getuies van v.16 met die persoon moet praat of dit voor die gemeente moet bring, sal Jesus self teenwoordig wees om hulle te help.  Dit is asof Hy sê:  ‘Ek weet dit is moeilik, maar julle doen die regte ding.  Ek is met julle en keur goed waarmee julle besig is.’  Daarom moet ons nie nalaat om dissipline toe te pas, omdat ons mense vrees nie – die Here is met ons.

 

Ek weet dat ek nie noodwendig al jou vrae oor kerkdissipline beantwoord het nie. Laat my toe om enkele vrae te beantwoord.  Indien jy nóg vrae het, is daar verskeie boeke en preke wat jou kan help.[2]

 

[1] Wat sal gebeur as ons nié dissipline toepas nie? Dan sal God die gemeente tugtig (Op.2:14-16, 20).

 

[2] Hoeveel tyd moet ons tussen die verskillende stappe toelaat? Dit hang van die situasie af.  As Karen traag is om die eredienste by te woon, gaan stap 1 en 2 jou waarskynlik ‘n paar maande vat.  Dit sal veral die geval wees as sy nou en dan ‘n poging aanwend om kerk toe te kom.  Maar as Gideon Dinsdag sy vrou gelos het om by sy sekretaresse in te trek, gaan jy binne twee of drie weke stap 1, 2 en 3 doen.

 

Daar moet genoeg tyd wees vir die persoon om haar te bekeer. “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” (1 Ts.5:14).  Iemand het gesê:  ‘Die liefde is geduldig, maar dis nie blind nie.’

 

[3] Wat moet jy doen as die persoon nie ‘n afspraak met jou wil hê nie, en hy jou boodskappe en oproepe vermy? Moenie te gou opgee nie.  Vra vir een van die ander getuies om die persoon te kontak.  Daag by sy huis op.  Skryf vir hom ‘n brief, maar maak seker dat jy jou woorde mooi kies.  Vra vir die ander getuies om dit deur te lees en voorstelle te maak voordat jy dit stuur.

 

As geeneen van jou pogings werk nie, het die persoon indirek gesê dat hy nie vir jou of die ander getuies wíl luister nie.  In daardie geval moet jy vir die leiers sê, sodat hulle dit voor die gemeente kan bring (v.17, 3 Jh.10).

 

[4] Wat as die persoon haar bekeer het – hoe moet ons dán te werk gaan? Hier moet ons ‘n balans handhaaf.  Aan die een kant moet ons nie naïef wees en dink dat sy haar bekeer het, net omdat so gesê het nie.  Om jammer te wees oor die gevolge van sonde, is nie dieselfde as om jammer te wees oor die sonde nie.  Ons wil daarom die vrug van bekering sien, en gewoonlik gebeur dit nie binne twee weke nie (2 Kor.7:10-11).

 

Indien daar egter ware bekering is, moet ons die persoon vergewe, haar as ‘n lidmaat van die gemeente herstel, en versigtig wees dat ons haar nie moedeloos maak omdat ons haar op ‘n afstand hou nie (v.21-35, 2 Kor.2:5-11).

 

‘n Ouer predikant het eenkeer vir my gesê: ‘Kerkdissipline werk nie – dit maak mense kwaad en dit dryf hulle weg.’  Hy was reg om te sê dat dit hulle wegdryf.  Toe God in Hd.5 vir Ananias en Saffira doodgemaak het, het die ongelowiges dit nie gewaag om by die gemeente aan te sluit nie (Hd.5:13).  Die predikant was egter verkeerd om te sê dat dit nie werk nie, want in dieselfde teks lees ons dat die Here meer en meer mense by die gemeente gevoeg het (Hd.5:14).

 

In die begin van John MacArthur se bediening het sy vriende vir hom gesê om nié kerkdissipline toe te pas nie, omdat dit die gemeente sal doodmaak. Hy het nie vir hulle geluister nie.  Die gemeente het gegroei van 400 tot meer as 10 000.  Dit laat my dink aan die vers wat sê:  “die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.” (1 Sm.2:30).

 

[1] Wayne Grudem, Systematic Theology, p.891

[2] [i] Handbook of Church Discipline deur Jay Adams.  [ii] Church Discipline deur Jonathan Leeman.

[iii] Hoofstukke oor kerkdissipline in Wayne Grudem se Systematic Theology, John MacArthur se Master’s Plan for the Church, Mark Dever se 9 Marks of a Healthy Church en The Deliberate Church deur dieselfde outeur.  [iv] Willem Nel van Krugersdorp Baptistekerk se audio preek hieroor.  Jy kan dit aflaai by:  http://baptistekerk.org/Hulpbronne/Preke/Volgens-Titel-2/post/gemeentelike-dissipline—n-bybelse-oorsig [v] Ek het twee ander preke oor die onderwerp gepreek.  Jy kan dit lees by:  https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2016/05/01/wat-moet-ons-doen-met-lidmate-wat-van-die-gemeente-afgesny-is/ EN https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2015/04/23/die-enigste-oplossing-vir-sonde-in-die-kerk/

Wat verwag die Here van jou?

Oor bekering, doop en kerklidmaatskap

baptism-and-membership

Dit is aaklig om nie te weet wat jou baas, afrigter, familielid of onderwyser van jou verwag nie. Dit voel alewig asof hulle kwaad is vir jou.  ‘Het ek dit reg gedoen?’ wonder jy.  Maar jy weet nie, omdat hulle nie vir jou sê nie.  Gelukkig is die Here nie so nie:  Hy sê presies wat Hy van jou verwag.  In Hd.2:37-41 sê o.a. wat Hy van jou verwag m.b.t. bekering, die doop en kerklidmaadskap.

 

Die Jode se vraag (v.37)

Het jy al ooit ‘n preek gehoor waarin dit vir jou gevoel het of die Here net met jou praat?  Was dit dalk ‘n preek waarin die Here jou hart blootgelê het, sodat dit vir jou gevoel het of iemand vooraf vir die prediker van jou situasie vertel het?  Ek het al so ‘n preek gehoor.

 

En in Hd.2 het Petrus se hoorders so ‘n preek gehoor. Sy woorde het soos ‘n mes in die Jode se harte ingesny (v.37).  ‘Julle het Hom gekruisig,’ het hy in v.23, 36 vir hulle gesê.  Die Gees wat in v.1-3 uitgestort is het hulle daarvan oortuig dat hulle die Here en langverwagte Messias gekruisig het (Jh.16:8, 1 Kor.2:8).  Nou wou hulle dinge reggemaak het, maar hulle het nie geweet hoe nie.  Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra:  ‘Wat moet ons doen, broers?’ (v.37).

 

Petrus se antwoord (v.38-39)

As ‘n sportspan baie goed is, is daar min mense wat ‘n neutrale gevoel teenoor hulle het: òf jy hou baie van hulle, òf jy haat hulle.  En hoeveel te meer is dit nie so m.b.t. Jesus nie?  Jy kan nie neutraal wees teenoor die ware Jesus van die Bybel nie:  as jy nie vir Hom is nie, is jy teen Hom (Mt.12:30).

 

Dít is wat Petrus in hierdie verse onder die Jode se aandag wou bring. Daar was net een manier vir hulle om reg te wees met God:  hulle moes hulle bekeer het – veral daarvan dat hulle die Messias verwerp en gekruisig het (v.38, 22-36).  Hulle moes geglo het dat Jesus se wonderwerke, kruisdood en opstanding bewys het dat Hy die Messias is (v.22, Ps.16, 22, 110, Jes.35, 53, 61).  As hulle hulle bekeer het, sou Hy hulle op grond van hierdie selfde kruisdood vergewe het (v.38, Lk.24:47).

 

Saam met die bekering en vergifnis het die doping met die Gees gegaan. Dié wat hulle bekeer het, sou ook onmiddellik die gawe van die Heilige Gees ontvang het (v.38, 1:5).  “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” (Rm.8:9).  Sonder die Heilige Gees kan ons nie Christus se nuwe lewe in ons hê nie (Tit.3:5-7).  Dit is ook deur Hom wat Christus ons in die gemeente inlyf (1 Kor.12:13).

 

Om hierdie bekering, vergifnis en doping met die Heilige Gees uit te beeld, moes die Jode in die Naam van Jesus Christus met water gedoop word (v.38, 10:47, 22:16). Dit is nie dat die doop iets tot hulle redding bygedra nie (Ef.2:8-9).  In die tyd van die Nuwe Testament is mense gedoop op die dag wat hulle tot bekering gekom het (v.41).  Daarom het Petrus bekering, die doop, vergifnis en doping met die Heilige Gees in een pakkie toegedraai (v.38).

 

Jesus se belofte van die Heilige Gees (Jh.14, 16) was nie net vir die Jode in Petrus se tyd nie, maar ook vir hulle kinders en vir die heidene wat in ver lande gebly het (v.39, 22:21, Jes.44:3, 59:19, Ef.2:11-13). Die Gees sou na dié toe gekom het wat die Here na Homself toe geroep het.  Hulle sou sy roepstem in hulle harte gehoor het:  ‘Staan op uit die graf van jou sonde; maak jou blinde oë oop om die waarheid van Jesus se kruisdood en opstanding te sien!’ (v.39, Joël 2:32).

 

Petrus se pleidooi (v.40)

Hiper-Calviniste glo dat ‘n mens nie vir ongelowiges mag sê om hulle te bekeer en in Jesus te glo nie, omdat hulle dit nie uit hulleself uit kan doen nie. Maar om so te redeneer is nie Bybels nie.

 

In v.39 het Petrus gesê dat God mense na Homself toe sal roep, en in v.40 het hy gesê dat die ongelowige Jode hulleself van die Here se oordeel moet red.  Daarmee het hy nie bedoel dat die krag om gered te word in onsself lê nie, maar eerder dat ons ‘n verantwoordelikheid het om na die Here toe te draai.

 

Petrus het van die opstanding en van Jesus se Messiaskap te getuig (v.40, v.32, 1:22, 3:15, 4:33, 9;22, 10:40-43, 18:28, 28:23). Hy het nie maar net die koue feite weergegee nie, maar het by die Jode aangedring om hulle te bekeer (v.39).  Die Here sou hulle in 70 n.C. geoordeel het (v.39, 19-20).  Om hulleself van hiervan te red, moes hulle van daardie bose geslag af weggedraai het (v.39, vgl. Dt.32:5, Fil.2:15) en die Naam van die Here Jesus aangeroep het (21, Joël 2:32, Rm.10:13).

 

Die Jode se reaksie (v.41)

Spurgeon het van ‘n sekere Mary Bailey vertel wat 50 jaar na haar bekering eers gedoop is. Spurgeon se reaksie hierop was soos volg:  ‘…it is to be hoped that none will imitate her by postponing the confession of their faith in Jesus for so long a time.  She lived half a century in disobedience to her Lord…’[1]  Die psalmis het gesê:  “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou” (Ps.119:160).

 

In v.41 sien ons hoe die Jode wat tot bekering gekom het, dadelik gedoop is en by die gemeente gevoeg is. Die Griekse passief wys dat hulle nie hulleself bygevoeg het nie – die Here het dit gedoen (v.41, 47).  Volgens Lukas is daar omtrent 3000 mense by die gemeente gevoeg (v.41).  Dit blyk dan dat hulle rekord gehou het van hoeveel lidmate daar was (vgl. 4:4).

 

Sommige dink dat daar nie genoeg tyd en water was om 3000 mense te doop nie, en dat Lukas oordryf het. Maar as al die apostels gehelp het, kon elkeen van hulle 250 mense gedoop het.  En as 1:15 se 120 dissipels gehelp het, kon elkeen van hulle 25 mense gedoop het.  Wat die hoeveelheid water betref sê John MacArthur dat argeoloë groot mikvahs of doopfonte in Jerusalem ontdek het.  Die Jode het dit in hulle reinigsrites gebruik.[2]

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Wat verwag die Here van jou?  Volgens v.41 lyk die volgorde só:  jy moet die evangelie glo en jou bekeer, gedoop word, en by die gemeente aansluit.  Jy kan nie volgorde omruil of een van die opdragte uitlos nie.  Jy kan nie gedoop word of ‘n lidmaat word, as jy nog nie gered is nie.  Jy kan nie die evangelie glo, en dan weier om jou te laat doop en by die gemeente aan te sluit nie.  Jy kan ook nie by die gemeente aansluit as jy nie gedoop is nie.  Watter een van hierdie dinge moet jy nog doen; watter een stel jy uit?

 

[1] Het jy nog nie die evangelie in jou hart ontvang en jou bekeer nie? Wat verhinder jou?  Erken dat jy teen die Here gesondig het, omdat jy vir jouself gelewe het en nie ‘n God oor jou wil hê wat vir jou sê hoe jy moet lewe nie.  Bely dat jy vir jouself ‘n god geskep het wat net liefde is, omdat jy nie van sy heilige oordele hou nie.  Bekeer jou van die dinge waaroor jou gewete jou pla, en selfs van die dinge wat jy al so baie gedoen het, dat dit jou nie meer pla nie.

 

Glo dat Jesus se kruisdood vir sondaars voldoende is om jou sonde weg te was. Glo dat Hy uit die dood uit opgestaan het en vertrou Hom om jou te red.  Glo dat sy liefde opreg is en dat Hy jou redding begeer.  Hoop geheel en al op Hom om jou te verlos, net soos wat jy op die grond onder jou voete vertrou om jou gewig te dra.  As jy hierdie liefdevolle Christus leer ken, sal jy nie anders kan as om Hom lief te hê en te doen wat Hy vir jou sê nie – jy sal wil.

 

[2] Het jy al tot bekering gekom, maar dit nog nie openlik in die doop bely nie? Die Here wil hê jy moet gedoop word; dit is nie opsioneel nie (v.38, 10:48, Mt.28:19).  “En wat noem julle My:  Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lk.6:46).  Wat beveel die Here aangaande die doop?

 

Gelowiges, en nie babas nie, moet gedoop word (v.38, 41, 8:12, 9:18, 10:47-48, 16:14-15, 30-33, 18:8, 19:1-6, 22:16, Mt.28:19, Mk.16:16, Rm.6:3-4, 1 Kor.1:2, 14-16, Gal.3:26-27, Ef.4:5, Kol.2:11-13, 1 Pt.3:21). Ek weet dat daar besware teen die Baptiste se siening van die doop is.  Laat my toe om hulle een vir een te beantwoord.

 

Beswaar #1: ‘Die verbond vereis dat gelowiges se kinders gedoop moet word.’

 

Antwoord: Mense wat dit sê verstaan nie die verbond nie.  In die Ou Testament het ‘n mens deur geboorte deel geword van God se uitverkore volk.  Om te wys dat ‘n kind deel gehad het aan God se verbond met Israel, is hy op 8 dae besny.

 

Om deel te hê aan God se nuwe verbond met die kerk moet ‘n mens geestelik gebore word en gedoop word as ‘n illustrasie daarvan. Soos wat besnydenis onder die ou verbond op fisiese geboorte gevolg het, moet die doop onder die nuwe verbond volg op wedergeboorte.

 

Beswaar #2: ‘Kol.2:11-13 sê dat die doop die besnydenis vervang, en omdat dit so is moet babas gedoop word.’

 

Antwoord: Paulus sê nie hier dat die doop die besnydenis vervang nie, maar hy praat van mense wie se harte besny is (m.a.w. hulle is weergebore).  Hulle was geestelik dood, maar deur hulle geloof in Jesus is hulle opgewek en lewe hulle nou saam met Hom.  Volgens Paulus is dit húlle wat gedoop moet word.

 

Beswaar #3: ‘Maar wat van die tekste wat praat van huisgesinne wat gedoop is:  kan ons nie hieruit aflei dat daar babas was nie?’

 

Antwoord: Nee, want die tekste sê dit nie.  Eintlik sê die meeste van hierdie tekste vir ons dat die gesinne wat gedoop is, nie babas in gehad het nie.  Cornelius en sy huisgesin is gedoop, maar hulle het ook almal die Here gevrees, die Gees ontvang en tot bekering gekom (10:2, 44, 47-48, 11:14-15).  Die tronkwag en sy huisgesin is gedoop, maar hulle het ook almal die evangelie gehoor, geglo en hulle daarin verbly (Hd.16:30-34).  Stefanas en sy huisgesin is gedoop, maar hulle was ook die eerste bekeerlinge in Achaje en het getrou in die kerk gedien (1 Kor.1:16, 16:15).

 

Beswaar #4: ‘Wat van 1 Kor.7:14 wat sê dat die kinders deur hulle gelowige ouers geheilig word?’

 

Antwoord: Die woord ‘heilig’ beteken om af te sonder.  Al wat die teks sê is dat gelowige se kinders deur die Here afgesonder word om in ‘n huis te bly waar hy of sy die evangelie kan hoor.  Die teks sê ook dat die ongelowige party in ‘n huwelik deur die gelowige party geheilig word.  En as die kinders gedoop moet word, moet die ongelowige huweliksmaat ook gedoop word.

 

Beswaar #5: ‘Maar het Jesus nie in Mt.19:14 gesê dat ons nie die kindertjies moet verhinder om na Hom toe te kom nie?’

 

Antwoord: Ja, maar Hy het nie gesê dat ons hulle moet doop nie.

 

Beswaar #6: ‘In v.39 sê Petrus dat die belofte vir die Jode en hulle kinders is.’

 

Antwoord: Volgens v.38 verwys die belofte nie na die doop nie, maar na die Heilige Gees.  En volgens die res van v.39 is die gawe van die Heilige Gees slegs vir dié wat die Here na Homself toe roep, vir dié wat tot bekering kom.  Die kinders in v.39 verwys dan nie na babas nie, maar na die Jode se nageslag wat in Christus glo (vgl. ‘seuns en dogters’ in v.17).

 

Die opdrag is dan duidelik: as jy jou bekeer het en in Jesus geglo het, moet jy gedoop word.  Dit geld nie net vir party mense nie, maar vir almal (v.38) – en jy is nie die uitsondering op die reël nie.

 

[3] Het jy al tot bekering gekom en jouself laat doop, maar nog nie by ‘n gemeente aangesluit nie? Volgens v.41 het die Here mense by die gemeente gevoeg.  Moet dan nie van die gemeente af wegbly as jy dit kan help nie.  Moet ook nie nalaat om by ‘n goeie gemeente aan te sluit en jouself so aan Jesus en sy liggaam te wy nie.

 

Let asseblief op dat die Here mense by die gemeente gevoeg het (v.41, 47).  Geen ‘kerkraad’ of gemeentevergadering mag aan sy vereistes peuter of verander nie.  Daarom kan ons nie van iemand ‘n lidmaat maak as hy of sy ongered of ongedoop is nie (v.41).

 

Joel Beeke is ‘n predikant in Amerika. Hy het eenkeer sy hart by sy ouer vriend uitgestort en vir hom gesê:  ‘Ek voel ontmoedig; die mense in die gemeente het my lief of hulle haat my – niemand staan neutraal nie.’  Sy vriend was in ekstase:  ‘Wonderlik!’ het hy gesê.  ‘Dit wys dat jy besig is om deur te dring!’

 

Ek wil mooi vra dat jy nie vandag neutraal sal staan nie, maar dat jy ‘n besluit sal neem. Bekeer jou, word gedoop en sluit by die gemeente aan.  Om neutraal te bly is om vir Here te sê:  ‘Ek gaan nie doen wat U van my vra nie.’

 

[1] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, p.146

[2] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Acts 2:41