Die dieper betekenis van Kersfees

christmas-2

In 1984 het ‘n 59-jarige vrou by ons begin werk. Sy het daar gewerk totdat my ouers in 2008 Johannesburg toe getrek het.  Sy lewe nogsteeds en kan nie lees of skryf nie.  As sy boeke gesien het, het dit vir haar soos ‘n klomp strepies gelyk.  Maar vir iemand wat kán lees het hierdie ‘strepies’ ‘n dieper betekenis.  En so is dit ook met Kersfees.  Die wêreld sien die baba in die krippie, maar weet nie wat dit beteken nie.  Jh.1:14-18 sal ons help om die dieper betekenis van Kersfees te verstaan.

 

Heerlikheid (v.14)

Kort na matriek het ek saam met ‘n vrou gewerk wat geglo het dat die mens se liggaam nie belangrik is nie, en dat die siel al is wat saakmaak. ‘n Paar jaar gelede het iemand vir my gesê dat die liggaam sonde kan doen, maar dat ‘n mens se gees nie kan sondig nie.

 

In Johannes se tyd was daar mense wat hierdie tipe dinge geglo het (sien enige goeie kommentaar op 1 Johannes). Daar was o.a. dié wat geglo het dat materiële dinge soos die menslike liggaam boos is, maar dat die mens se gees rein is.  Om hierdie rede het hulle geglo dat God nie regtig ‘n mens geword het nie, maar dat Hy net soos een gelyk het.  In Jh.1 sien ons hoe Johannes hierdie mense teëgegaan het.  ‘Die Woord het vlees geword,’ het hy gesê.  M.a.w., Hy het volkome mens geword (v.14).  Die implikasie is dat Hy nie altyd ‘n mens was nie, en ook dat Hy bestaan het nog voordat Hy aarde toe gekom het (v.1).  Hy was nog altyd saam met God en is self ook God (v.1).

 

Hoe het dit dan gebeur dat Hy ‘n mens geword het? Hy is nie gebore uit die liefdesverhouding tussen ‘n man en ‘n vrou nie (Mt.1, Lk.1).  Maria was ‘n maagd toe sy deur die Gees se krag met Hom swanger geword het (Lk.1:35).  Só het die ewige Woord van God dan vlees geword (v.1, 14).

 

Sy vleeswording beteken nie dat Hy opgehou het om God te wees nie. Hy is immers Immanuel, God met ons (Mt.1:23).  Hy is een Persoon met twee nature.  Hy is en sal vir ewig volkome God (v.1) en volkome mens bly (v.14, Hd.7:56, 1 Tm.2:5, Heb.1:3, Op.1:12-16).

 

As mens het Hy vir 33 jaar op die aarde gewoon (v.14). Die Griekse woord vir ‘woon’ [skenoō] beteken letterlik ‘om ‘n tabernakel op te slaan’.  In die Ou Testament was God se tabernakel in die midde van sy volk; in die Nuwe Testament het Hy in ‘n menslike liggaam onder ons die tabernakel van sy teenwoordigheid opgeslaan.  In die Ou Testament het God se heerlikheid die tabernakel gevul (Eks.40:34-35); in die Nuwe Testament het sy heerlikheid die tabernakel van die vleesgeworde Woord gevul (v.14).

 

Johannes sê dat hy hierdie heerlikheid met sy eie oë gesien het (v.14, 1 Jh.1:1). Hy het dit in Christus se wonderwerke gesien (2:11, 11:4, 40),  asook op die berg van verheerliking (Lk.9:32, 28-29).  Dit het duidelik geword in Jesus se kruisdood en opstanding (7:39, 12:16, 23, 20:19), en ons sal dit ook by sy finale koms sien (Tit.2:13).

 

Hierdie heerlikheid bewys net weer vir ons dat die Woord God is (v.14, 1, 17:5, 5:23, Jes.48:11). Sy heerlikheid is die glansryke essensie van sy Goddelikheid.  Dit kan duidelik gesien word in sy genade en waarheid; in sy goedheid (v.14, Eks.33:18-19).  Dit is so ryk en vol dat mens dit nie kan mis nie (v.14).  Soos ‘n helder lig skyn dit uit die ewige son van die Eniggebore Seun van God (v.14, 3:16).  Niemand in die heelal is soos Hy nie:  uniek en een van ‘n soort [Gk. monogenēs].  Hy het van die Vader af na ons toe gekom (v.14, 3:17).

 

Die wêreld het Hom gesien, maar sy Goddelike heerlikheid was onder die sluier van sy menslike liggaam bedek. Daarom het hulle nie verstaan dat Hy God is nie (1 Kor.2:7-8).  En so is dit vandag nog met baie Afrikaners wat van Jesus in die krippie weet sonder om te besef wat dit eintlik beteken.  Hulle het nie ‘n Bybelse begrip van die menswording van Jesus Christus nie.

 

Verder beperk hulle ook hulle idee hiervan tot een dag per jaar, wanneer hulle op Kersdag saam met hulle ‘fanatiese’ familie kerk toe gaan. Hulle begrip van die menswording van Jesus strek nie veel verder as die bekende wysies van ou Kersliede wat hulle op RSG en in Checkers hoor nie.

 

En natuurlik gaan die wêreld hulle nie help om hierdie oppervlakkige beeld te verander nie. Hulle sal die verwarring aanhelp deur hulle films oor Kersvader – die ou man met sy rooi pak en wit baard.  Die aandag is lankal nie meer op Jesus nie.

 

Die tradisionele Afrikaner se kinders weet meer van Kersvader as van Jesus. Ons het gemaak of Kersvader regtig is, maar het gelewe asof Jesus nie bestaan nie.  Die waarheid van Jesus se vleeswording het nie ‘n impak op ons lewens gehad nie; dit het ons nie verander nie.  Ons gedagtes oor God en ons sonde, die kerk, die wêreld, ons geld en besittings, ons werk en verhoudings met ander mense verskil nie van ons ongelowige kollegas s’n nie.  Dit bewys net weereens dat die deursnee Afrikaner nie eintlik die menswording van Jesus verstaan nie.

 

Moet dan nie tevrede wees met die naakte feit van Jesus se vleeswording nie.  Die wêreld weet ook van die herders, die engele, Josef en Maria in Betlehem, die krippie en die baba, die wyse manne, die ster, goud, wierook en mirre, en ‘n jong seuntjie wat in die huis op sy ma se skoot sit.  Hulle mis egter die heerlikheid van God hierin, omdat hulle nog nie sy goedheid, genade en waarheid in hulle harte ervaar het nie.

 

Hulle het al by die krippie gestaan en ‘ag cute!’ gesê, maar het nog nie by die bloedbesmeerde kruis gaan staan en in diepe berou die trane van hulle oë afgevee nie; hulle het nog nie besef dat dit die verdiende loon vir hulle sonde is nie. Juis daarom kan hulle nie die heerlikheid van Jesus en die dieper betekenis van Kersfees sien nie.  Hulle sonde het hulle blind gemaak:  “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rm.3:23).

 

Ewigheid (v.15)

Ons leer vir ons kinders die Westminster Kategisme. Toe hulle gehoor het dat God nie ‘n begin gehad het nie, het hulle gesê:  ‘Maar Hy is dan in Betlehem gebore.’  Ek moes vir hulle verduidelik dat Hy as mens in Betlehem gebore is, maar dat Hy as God nog altyd bestaan het.

 

En dit is van hierdie vleesgeworde Woord wat Johannes die Doper getuig het (v.15, 7-8).  Sy hele bediening het hierop gefokus (v.19-36, 3:27-30).  Hy het geweet dat die Seun van God se bediening eers ses maande ná syne begin het, en dat hy ses maande ouer was as Jesus (v.15, 30, Lk.1).  En tog was die vleesgeworde Woord belangriker as Johannes (v.15, 30, vgl. Mt.11:11).  In sy Goddelikheid het Jesus lank voor Johannes bestaan (v.15, 30, 1).  Eintlik was Hy Johannes se God.

 

Daarom moet Jesus meer word en ons minder (3:30). Dit kan net gebeur as dit by ons insink dat ons in die teenwoordigheid van ‘n Wese is wat geen begin of einde het nie.  Hy is nie soos ons vasgevang in tyd nie, en word ook nie deur ruimte beperk nie.

 

Dink ook verder daaraan dat dit is wat as ‘n hulpelose baba gebore is.  Hoe moes dit gewees het om die babatjie vas te hou?  Jy sou moeilik geglo het dat die baba wat in jou arms lê die ewige God is.  Hy het aarde toe gekom om ons te red van ‘n oordeel wat so groot is soos Hy.  Laat sy ewige en oneindige liefde jou op jou knieë dwing, sodat jy Hom saam met die herders, engele en wyse manne aanbid.

 

Volheid (v.16-17)

Kom ons gestel jy het ‘n oneindige hoeveelheid energie en stamina tot jou beskikking, en jy kan nie doodgaan nie. Hoe lank sal dit jou vat om met ‘n emmer al die water uit die see uit te skep?  Miskien sal jy dit binne ‘n miljoen jaar regkry.  Maar met Jesus se die genade is dit anders:  dit is oneindig en kan nie uitgeput word nie.  As jy met die emmer van gebed uit hierdie oseaan skep, is daar nie minder genade oor nie.

 

Soos ‘n rivier wat sy walle oorstroom was Jesus vol van Goddelikheid (v.16, Kol.1:19, 2:9). Uit sy volheid het ons genade op genade ontvang, net soos wat die see se golwe eindeloos op mekaar volg (v.16).  Hierdie genade was nie net vir die Jode bedoel nie, maar vir almal – dit is, vir dié wat dit met die regterhand van geloof vat (v.16, 3:16, Tit.2:11).

 

Die wet wat God deur Moses gegee het was nie so volkome in genade soos die evangelie nie (v.17). Dit het vir die volk gesê hoe om die Here tevrede te stel, maar het hulle nie instaat gestel om dit te doen nie.  Dit was ook sonder genade vir dié wat dit oortree het.  En toe kom die Wetgewer aarde toe.

 

Hy het die wet namens ons onderhou, en ook die straf ontvang wat ons verdien het. Die genade van verlossing en die volle waarheid van die wet se skadus en tipes – die Sabbat, tabernakel en offers – het deur Jesus na ons toe gekom (v.17, Kol.2:16-17).

 

Ons kan v.17 in John Bunyan se woorde opsom:

 

‘Run John, run!’ the law demands,

But gives him neither feet nor hands (v.17a).

Far better news the gospel brings;

It bids him, ‘Fly!’ and gives him wings (v.17b).

 

Jesus is dan beter as Moses. Moses het nie self die wet gegee nie, maar het dit by God gekry (v.17).  Maar genade en waarheid is in Jesus self (v.17, Eks.34:6).

 

Kom dan na Hom toe as jy die volheid soek van alles wat goed en waar is. Die smaaklike kos, geselligheid en geskenke wat jy op hierdie dag geniet, kan dit nie vir jou gee nie – net Hý kan.  As jy in Hom glo sal jy sien dat ek die waarheid praat.  Jy sal agterkom dat Kersfees maar net die begin van sy genade is.  Jy sal ‘n ewigheid in die hemel nodig hê om die onmeetbare skatte van sy genade te ontvang:  “sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.” (Ef.2:7).

 

Maar jy hoef nie te wag tot in die hemel nie; jy kan nou al by die swaar gelaaide tafel van genade aansit. Hiér hoef jy nie skuldig te voel as jy jouself trommeldik eet nie.  Volgens die res van die Nuwe Testament sal God vir jou hierdie onskatbare genade gee om:

 

  • Aan te hou glo (Hd.13:43).
  • Die evangelie met ander te deel (Hd.14:26, 15:40).
  • Geestelik te groei (Hd.20:32).
  • Geestelike werk te doen (1 Kor.15:10, Ef.4:7).
  • Geld by te dra vir arm Christene (2 Kor.8:1, 6-7).
  • Lyding te verduur (2 Kor.12:9).
  • Troos en hoop te hê (2 Ts.2:16).
  • Innerlik versterk te word (2 Tm.2:1, Heb.13:9).
  • Vrymoedig te bid (Heb.4:16).

 

Dit is die geskenke wat God hierdie Kersfees vir jou wil gee. Genade is tog waaroor Kersfees gaan, nie waar nie?

 

Openbaring (v.18)

As jy vir baie lank getroud is, dan leer jy mekaar ken. As jou maat bv. op ‘n sekere manier na jou kyk, dan sê jy:  ‘Ek weet wat jy dink.’  Ek is seker dat jy al baie keer reg geraai het, maar ek is net so seker dat jy by tye al verkeerd was.

 

Niemand ken ‘n ander mens se gedagtes nie. Jy alleen weet wat in jou kop aangaan.  As ander mense jou gedagtes wil ken moet jy woorde gebruik om dit vir hulle te sê.  En net so is Jesus die Woord van God wat gekom het om die Vader se hart en gedagtes bekend te maak.

 

In Eks.33:18-23 het Moses die skynsel van God se heerlikheid gesien, maar in sy essensie het niemand Hom nog ooit gesien nie (v.18, 4:24, 5:37, 1 Tm.6:16). Maar toe Jesus aarde toe gekom het, het Johannes en baie ander mense Hom gesien (v.18).  Hulle het geleer dat Hy die enigste God en die Eniggebore Seun van God is (v.18).  Hy was in die Vader se boesem (v.18).  Wat op aarde beteken dit?  Dit beteken dat Hy baie naby aan die Vader was – so naby dat Hy en die Vader een is (v.1, 10:30).  Wie Hom gesien het, het die Vader gesien (14:9).

 

Baie mense wat ‘n slegte verhouding met hulle pa’s gehad het, het ‘n verkeerde idee van God. Hulle is geneig om die Vader te vermy en te dink dat hulle eerder ‘n verhouding met ‘liewe’ Jesus wil hê.  Maar om so te dink is verkeerd, en wys ook dat hulle ‘n verdraaide beeld van God het.  Jesus en die Vader is presies dieselfde en is meer identies as enige tweeling wat bestaan; hulle is een (v.18, 10:30, Heb.1:3).  Alles wat Jesus is, is die Vader ook (14:9), en daarom kan jy met vrymoedigheid na Hom toe kom.  Is dit nie hoekom Hy aarde toe gekom het nie?

 

‘Light looked down and beheld Darkness.

“Tither will I go,” said Light.

Peace looked down and beheld War.

“Tither will I go,” said Peace.

Love looked down and beheld Hatred.

“Tither will I go,” said Love.

So came Light and shone.

So came Peace and gave rest.

So came Love and brought life.

And the Word was made flesh and dwelt among us.’[1]

 

[1] Laurence Housman aangehaal in Leon Morris, The Gospel According to John, p.102 n.85

Advertisements

Die vernedering van Kersfees

baby-crying

Geen Kerskaartjie met ‘n prentjie van die krippie, die oulike baba, Josef en Maria, die vriendelike donkies en skape, die wyse manne, die herders en die ster, sal vir jou die idee gee dat Jesus se geboorte eintlik ‘n vernedering was nie. ‘n Mens besef dit eers as jy verstaan dat die baba wat daardie aand in die krippie gelê het, God was.  En vir die ewige God om as ‘n mens gebore te word was ‘n vernedering.  So leer Fil.2:6-7 vir ons.

 

Jesus in die hemel (v.6)

Almal van ons sukkel met hoogmoed – of ons dit nou wil erken of nie. Ons dagdroom oor onsself, wil hê dat dinge op ons manier gedoen moet word, hou daarvan om onsself op fotos te sien, geniet dit as ander mense vir ons vertel hoe wonderlik ons is, word kwaad vir mense as hulle ons swakpunte uitwys, en bestuur asof die pad net vir ons gebou is.

 

Iemand het eenkeer vir my gesê dat hy nie meer met hoogmoed sukkel nie. Ek het vir hom C.J. Mahaney se boek oor nederigheid geleen.  Toe hy dit klaar gelees het was hy vir twee dae depressief.

 

Omdat almal van ons met hoogmoed sukkel, moet ons Paulus se lering oor die onderwerp ter harte neem. In v.6 leer hy vir ons dat Jesus die hemel verlaat het (v.6).  Paulus sê dat Hy in die gestalte van God was (v.6, Jh.1:1, Kol.1:15).  Die verledetyd beteken nie dat Hy opgehou het om God te wees nie.  Die Griekse werkwoord wys eerder vir ons dat Hy in die gestalte van God was en so gebly het (v.6).

 

Die woord gestalte (morphē) het niks te doen met die uiterlike vorm nie – God is immers ‘n onsigbare gees (Jh.4:24).  Dit praat eerder van sy innerlike wese, eienskappe en karakter wat so volkome God is soos die Vader en die Heilige Gees.[1]  Jesus was in elke opsig gelyk met die Vader en die Heilige Gees, soos wat ‘n fotostaat identies soos die oorspronklike dokument lyk (Heb.1:3).

 

Maar t.s.v. hierdie gelykheid het Hy nie gevoel Hy word beroof of ingedoen toe Hy sy hemelse heerlikheid verlaat het om aarde toe te kom nie (v.6). Niemand het Hom gedwing om dit te doen nie; dit was vrywillig.  Hy was nie soos ‘n kind wat styf aan die kar se sitplek vasklou, omdat hy weier om tandarts toe te gaan nie.

 

Jesus op die aarde (v.7)

Almal ken die storie van die prins wat in ‘n ondier of gedrog verander het. Hy het weer ‘n mens geword toe die meisie hom liefgekry en gesoen het.  Tensy jy in evolusie glo, sal jy weet dat daar ‘n baie groot verskil tussen mense en diere is.  Dit is ‘n vernedering vir enige prins om in ‘n dier te verander.

 

Ons weet natuurlik dat dit net ‘n storie is. Maar die menswording van Jesus Christus is nie net ‘n storie nie – dit het regtig gebeur.  Omdat die afstand tussen God en die mens oneindig is, was Jesus se menswording ‘n groter sprong as vir die prins om ‘n ondier te word… of as vir ‘n engel om ‘n wurm te word.

 

Toe Jesus aarde gekom het, het Hy Homself leeg gemaak of ontledig (v.7). Dit beteken nie dat Hy sy Goddelikheid verloor het, of dat Hy sy gelykheid met die Vader prysgegee het nie.  Toe Jesus op die aarde was, was Hy nogsteeds alwetend sodat Hy mense se harte geken het (Jh.2:24-25); Hy was nogsteeds almagtig sodat Hy die wind en die see beheer het (Mt.8:26-27); Hy was nogsteeds volmaak heilig sodat Hy nie sonde gedoen het nie (1 Pt.2:22).  Die volheid van alles wat God is, het in Hom gewoon (Kol.1:19, 2:9).

 

Dat Hy Homself ontledig het beteken eerder dat Hy sy hemelse rykdom en heerlikheid verlaat het (Jh.17:5, 2 Kor.8:9). Hy het sy hemelse troon verruil vir ‘n krip en ‘n kruis.  Verder het Hy ook die onafhanklike gebruik van sy Goddelike eienskappe prysgegee.  Hy het bv. nie sy almag gebruik sonder die Vader se toestemming nie (Mt.4:3-4, Jh.5:19).

 

Die Griekse woord vir ‘ontledig’ [kenoō] kom net op vier ander plekke in die Nuwe Testament voor (Rm.4:14, 1 Kor.1:17, 9:15, 2 Kor.9:3).  Dáár beteken dit om iets waardeloos te maak, sodat dit sy betekenis verloor.  Paulus bedoel dan eintlik dat Jesus Homself niks gemaak het of dat Hy Homself verneder het (v.5, 7, Jes.40:17).

 

Hy het nie as ‘n belangrike koning na die aarde toe gekom nie; Hy het die gestalte (Gk. morphē) van ‘n slaaf aangeneem (v.7).  Mense het Hom verag (Jes.53:3).  Alhoewel Hy die Here en Meester was, het Hy Hom soos ‘n slaaf neergebuig en die dissipels se voete gewas (Jh.13).

 

Sosiaal en ekonomies was Hy ook op die laagste trappie. Hy het nie ‘n huis gehad nie (Mt.8:20).  Wat Hy gehad het was geleen:  die krippie waarin Hy gebore is, die boot waarin Hy gepreek het, die muntstuk wat Hy gebruik het om iets te illustreer, die donkie waarop Hy gery het, die bovertrek waarin Hy die Paasfees gevier het en die graf waarin Hy begrawe is.  Toe Hy dood is het Hy niks gehad nie – selfs sy klere is verdeel.  Hy het inderdaad die gestalte van ‘n slaaf aangeneem (v.7).

 

Hy het nie maar net ‘n menslike liggaam soos ‘n oorpak aangetrek nie, maar het volkome mens geword soos ek en jy. Hy was volkome God en volkome mens in een Persoon.  As mens het Hy soos ons gelyk, sodat Judas Hom met ‘n soen moes uitwys.  Hy was in elke opsig soos ons, behalwe dat Hy nie gesondig het nie (Heb.2:17, 4:15).

 

Hy het gegroei en geleer (Lk.2:52, Heb.5:8). Hy het vaak geword en geslaap (Mk.4:38).  Hy het honger en dors geword (Mt.4:2, Jh.19:28).  Hy het hartseer geword en gehuil (Lk.19:41).  Hy het angstig geword (Mt.26:38).  Hy het gesterf (v.8).  Wat ‘n vernedering moes dit nie vir die sondelose Seun van God gewees het om soos ‘n misdadiger onder sy Vader se vervloeking aan ‘n kruis te sterf nie (v.8, Gal.3:13)?  En tog het Hy dit gedoen uit liefde vir sondaars.

 

As Jesus Homself dan só verneder het, is dit mos nie te veel gevra om iemand anders en sy belange bo jou eie te stel nie? Is dit regtig so erg as dinge nie op jou manier gedoen word nie, of as iemand jou nie erken het nie?  Hoekom pla dit jou so baie as iemand jou nie gegroet het nie, of as hulle nie vir jou dankie gesê het nie?

 

As Christene moet ons mos nie soos die wêreld wees nie, maar soos Jesus. In die wêreld is dit elkeen vir homself en die duiwel vir die res.  In die wêreld gee die baas nie om of die mense wat onder hom werk hulle kinders se skoolfondse kan betaal of nie – solank hy sy BMW X5 kan ry en oorsese vakansies kan hou.

 

In die wêreld hou mense van jou as jy hulle kan bevoordeel. Sodra jy egter in die pad van hulle doelstellings staan, sal hulle van jou ontslae raak.  Die tipiese Hollywood huwelik werk so.  ‘As ek jou kan hê, sal dit my beter laat lyk.’  Dit is hoe hulle dink.  En dan hou die huwelik ook net totdat daar iemand mooier, ouliker, jonger of ryker oor hulle pad kom.

 

Ons moenie so wees nie, maar moet ander mense se belange bo ons eie stel (v.3-5). Ek het vriende wat hulle vakansie prysgegee het om ‘n arm sendeling te help.  Dít is die tipe dinge waarvan Paulus hier praat.  Dit is tog wat Jesus gedoen het (v.6-8, Rm.15:3).  En wie aan Hom behoort moet soos Hy lewe (v.5, 20, 30, 1 Jh.2:6).

 

Hoe kan jy in hierdie opsig soos Jesus wees? Wees bereid om jou regte en voorregte prys te gee om ander te dien (v.6).  Gee jou tyd, geld, aandag en vaardighede as jy moeg is, nie lus het om nou na ander se probleme te luister nie, uitgesien het om op die bank te lê en TV kyk, van plan was om ‘n Sondagmiddag slapie te vat, ‘n lang dag by die werk gehad het, alleen saam met jou familie wou kuier, jouself wou bederf en vir jou iets lekker wou koop.  As Jesus sy lewe vir ons gegee het, kan ons sekerlik in die middel van die nag opstaan om ‘n huilende kind of ‘n gelowige in nood te help.

 

En tog sal dit nie gebeur as die Here nie eers jou hart verander het nie. Om ander mense met ‘n nederige hart te dien, moet jy jouself eers voor die Here verneder.  Jy moet jouself verloën (Lk.9:23).  Om dit reg te kry moet jy jouself in die lig van God se heiligheid sien, want solank as wat jy jouself aan ander mense meet sal jy dink jy is beter as hulle.  As jy jouself aan God se standaarde meet, sal jy besef dat jou hart vol van hoogmoed, jaloesie, bitterheid, wellus en ander sondes is.  Jy sal besef dat jou beste dade met selfsugtige motiewe besoedel is.  Dus sal jy nie net berou hê oor jou sonde nie, maar ook oor jou goeie dade.

 

As jy dan sien hoe volmaak en vol van goedheid Jesus is, en hoe Hy uit liefde vir sondaars bereid was om hulle straf op Homself te neem aan die kruis, sal jy jammer wees dat jy so teen Hom gesondig het. Jy sal wonder hoekom jy ooit vir jouself gelewe het as Hy so goed was vir jou.  Jy sal van die sonde in jou hart ontslae wil raak en jou rug op jou eie goeie werke en pogings wil draai (Fil.3:4-9).  Uiteindelik sal jy in desperate frustrasie besef dat jy nie van jou sonde ontslae kan raak nie.  Jy sal besef dat Jesus jou enigste hoop is om vergewe te word, en dan sal jy na Hom toe uitroep.  En jy sal nie teleurgesteld wees nie.

 

Nóú kan jy begin om ander bo jouself te stel, omdat jy gesien het dat jy nie so wonderlik is soos wat jy nog altyd gedink het nie. Jy het besef dat Jesus die wonderlikste Persoon in die wêreld is, en daarom wil jy soos Hy wees.  As jy Hom net kan liefhê en verheerlik dan sal dit jou hart bly maak.

 

As jy vir die gemiddelde Afrikaner vra waaroor Kersfees gaan, kan hy vir jou sê dat dit oor die geboorte van Jesus gaan. En tog vier ons dit nie so nie.  Ons is bereid om iets vir iemand te doen, maar nie as dit vir ons ongerieflik is of inmeng met ons planne nie.  Maar gaan Kersfees nie juis oor Jesus wat sy eie gemak prysgegee het om ander te dien nie (v.6-7)?  En moet ons nie soos Hy wees nie?

 

[1] Sien notas op Fil.2:6 in A.T Robertson, Word Pictures in the New Tesament en Marvin Vincent, Vincent’s Word Studies

God met ons

God with us

In Griekse mitologie het die gode soms die vorm aangeneem van reptiele, voëls, die skuim van die see, ens. Een aand was daar ‘n slang in die bed van Olympias, Filippus van Macedonië se vrou.  Kort daarna is Aleksander die Grote gebore.  Die Grieke het geglo dat die oppergod-Zeus in die vorm van ‘n slang gekom het om met Olympias te slaap.  Gevolglik het hulle gesê dat Aleksander nie Filippus se seun is nie, maar Zeus s’n.[1]

 

Op grond van sulke mites sê skeptici dat die maagdelike geboorte in die Skrif sy oorsprong kry by heidense godsdienste. Maar vir gode om egbreuk te pleeg of vroue te verkrag het niks te doen met die maagdelike geboorte nie.  Buitendien was Jesus ‘n geskiedkundige persoon en nie ‘n mitologiese figuur nie.

 

Die feit dat daar nagemaakte diamante is, beteken nie dat egte diamante nie bestaan nie. En die feit dat daar stories soos Matteus 1 is, beteken nie Matteus het die maagdelike geboorte opgemaak nie.  Sou ‘n Jood wat heidense gode soos die pes vermy het, hulle mites oorneem en ‘n slim storie opmaak?

 

Elke Christen weet in sy hart dat die Kersboodskap van Matteus 1:22-23 waar is: Jesus is Immanuel, God met ons.

 

Die vervulling van die profesie (v.22)

In my eerste jaar van studies moes ons vir Ou Testament ‘n taak doen oor Jesaja 7:14: ‘Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.’  Volgens ons dosent het die teks nie gegaan oor Jesus nie, en het hy verbied dat ons dit in die taak sê.

 

Nadat hy weg is het Danie Haasbroek eendag by ons kollege aangekom en gevra hy wil boekies uitgee wat wys dat Jesus oral in die Ou Testament is. Later het Haasbroek stand ingeneem teen die 2016 Afrikaanse vertaling wat Jesus uit Ou Testament weg vertaal.  Twee voorbeelde wys wat hy bedoel het.  In die Ou Vertaling van Psalm 45:7-8, 110:1 lees ons:

 

“U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.  U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid.  Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle… Die HERE het tot my Here gespreek:  Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.”

 

In die 2016 Afrikaase Vertaling staan daar:

 

“U troon, o goddelike wese, is vir altyd en ewig, die septer van u heerskappy is ‘n billike septer.  U het geregtigheid lief en u haat goddeloosheid.  Daarom, o goddelike wese, het u God u met olie van vreugde gesalf – meer as u vriende… Die uitspraak van die Here vir my heer is:  ‘Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete maak.’”

 

‘n Kollega was by een van die eerste vergaderings van die 2016 Vertaling. Hy het ons vertel hoe een van die vertaalspan se leiers erg geskop het teen Jesus in die Ou Testament.  ‘n Groep kerke het hierteen kapsie gemaak.  By een vergadering wat ek bygewoon het, het ‘n leier van die vertaalspan uitgevaar teen Jesus in die Ou Testament.

 

Maar Jesus self sê dat die Skrifte van Hom getuig, en praat van alles wat die wet, profete, en Psalms oor Hom sê (Johannes 5:39, Lukas 24:44). Matteus het dit geglo, en die maagdelike geboorte van Jesus gesien as die vervulling van Jesaja 7:14 (vgl. Matteus 1:22-23).[2]

 

Toe Maria aan Josef verloof was (voordat hulle getrou het en saam geslaap het), was sy swanger deur die werking van die Heilige Gees. Toe Josef sy voorgenome huwelik met haar wou verbreek, het ‘n engel in ‘n droom vir hom gesê:  ‘Maria is swanger deur die werking van die Heilige Gees.  Moenie bang wees om met haar te trou nie.  Noem die baba Jesus, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.’ (v.18-21).  Op hierdie wyse het God die profesie vervul wat Hy 700 jaar tevore deur Jesaja gemaak het (Jesaja 7:14, vgl. 2 Petrus 1:21).  Wat presies sê Jesaja 7 oor die Messias?

 

Die hoofstuk vertel van die bose koning Agas in Jerusalem. Om hom te straf het God vir koning Resin van Sirië en Peka van Samaria teen Jerusalem gestuur.  Hulle wou egter verder gaan as wat God beveel het.  Hulle wou Dawid se nageslag uit Jerusalem wegvat en hulle eie koning aanstel (Psalm 132:11-12).  Jesaja het met ‘n boodskap van God gekom vir Agas en die volk:  ‘Moenie hierdie twee konings vrees nie.  Hulle woede is soos stompe wat nie meer brand nie, maar net rook.  God sal julle vyande binne 65 jaar vernietig, sodat hulle nie meer soos ‘n seer tand pla nie.’

 

God wou hê Agas moes sy trooswoord deur Jesaja glo. Hy kon vir enige teken vra om die profesie te bevestig.  Agas wou egter die koning van Assirië se hulp hê, en nie God s’n nie.  Hy het geweier om ‘n teken te vra.  Jesaja het gesê:  ‘As jy nie vir ‘n teken wil vra nie, sal God self ‘n teken gee:  ‘n ongetroude jong vrou (‘n maagd) sal swanger word en ‘n baba seun baar.  Sy naam sal Immanuel wees:  God met ons.  Ja, God is inderdaad met sy volk, en daarom hoef Israel nie haar vyande te vrees nie.’

 

Die inhoud van die profesie (v.23)

Deur die eeue het mense baie eienaardige sienings oor Maria gehad:

 

  • Sy het nie erfsonde nie en is sondeloos gebore (‘immaculate conception’).
  • Sy het ‘n maagd gebly nadat sy getrou het. Selfs Protestante soos Calvyn, Zwingli, en Luther het dit geglo.[3]
  • Sy het uit die dood uit opgestaan en opgevaar hemel toe.
  • Sy het ‘n aandeel in ons redding (‘co-redemptrix’).
  • Sy tree vir ons in (‘mediatrix’). Bernard van Clairvaux het in die 12de eeu gesê: ‘If you are terrified by the thunders of the Father, go to Jesus. If you are afraid to go to Jesus, then run to Mary.’[4]
  • Party vereer haar in liede en met beelde. In die 14de eeu het die Russiese Ortodokse Kerk gesê dat ‘n sekere prent van Maria en Jesus wonderwerke gedoen het; dat dit Moskou drie keer teen buitelandse magte beskerm het.[5]
  • Baie kerke en kloosters sê dat hulle relics van Maria het. Calvyn het gespot oor die honderde kerke en kloosters wat sê hulle het van Maria se melk in ‘n bottel. ‘Daar is genoeg melk vir ‘n melkplaas, of om babas vir jou hele lewe lank te voed,’ het hy gesê. Mense in Aix-la-Chapelle [Aachen] het gesê dat hulle een van Maria se hemde het. Calvyn het gesê die hemp is so groot dat sy ‘n reus sou moes wees om dit te dra.[6]

 

‘n Mens kan verstaan dat Moslems dink die Drie-Eenheid bestaan uit die Vader, die Moeder, en die Seun.[7]  ‘n Mens kan ook verstaan hoekom party mense so vurig teen die Maria-kultus gereageer het.  Toe John Knox ‘n slaaf was op ‘n Franse skip, het die Katolieke bemanning ‘n Maria-beeld voor sy gesig gehou en gesê hy moet dit soen.  Hy het dit by hulle gevat en dit oorboord gegooi.[8]

 

Ons moet tog pasop dat ons nie maak of Maria sleg was nie. Sy is die mees bevoorregte vrou in die geskiedenis (Lukas 1:42, 48).  In haar baarmoeder het sy die ewige en almagtige God gedra!  Hoe het dit gebeur?

 

‘n Kind kan nie gebore word sonder dat konsepsie eers plaasvind nie: die manlike spermsel moet die vroulike eiersel bevrug.  Die kind kry 23 chromosome by sy pa, en 23 by sy ma.  Die chromosome bevat die inligting vir die kind se geslag, blou oë, bak ore, skerp neus, skewe pinkie, kort tone, lang bene, ens.

 

In die geskiedenis is Maria se eersgebore Seun die uitsondering op die reël (v.18, 20, Lukas 1:34-35). Sy het nie met ‘n man geslaap nie:  die Gees het in haar baarmoeder gewerk, sodat Jesus nie half-God en half-mens was nie, maar volkome God en volkome mens (met 46 chromosome!) – twee nature in een Persoon.

 

Kon God gemaak het dat Jesus direk uit die hemel as mens neergedaal het? Of dat Hy gebore is uit die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou, en nogsteeds volkome God kon wees?  Ja, want geen ding sal vir God onmoontlik wees nie (Lukas 1:37).  Maar as Jesus direk uit die hemel neergedaal het as mens, sou ons sy volkome menslikheid betwyfel het.  En as Hy uit die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou gebore is, sou ons sy volkome Godheid betwyfel het.  Daarom is Hy uit ‘n maagd gebore.

 

Jesus se geboorte uit ‘n maagd wys ook dat Hy sondeloos is (Lukas 1:35, Hebreërs 7:26). Dit wys ook dat Hy beide God en mens is.  Is dit belangrik dat Hy ‘n seun was, en nie ‘n dogter nie?  Ja, want in die eerste eeu was seuns die erfgename.  Verder moes ‘n seun die wettige opvolger tot die troon van Dawid wees (Lukas 1:32).  Daarom is Jesus ook die Seun van die Mens (Daniël 7:13-14), en die Seun van God (Lukas 1:35).  Hy is Immanuel, God met ons.  Verse soos Jesaja 9:5, Kolossense 2:9, Hebreërs 1:3 wys duidelik dat Hy God is.

 

Laat die Kersboodskap van ‘God met ons’ nie net vir jou ‘n mooi storie wees nie, maar ‘n realiteit wat jou lewe verander. Dit sal die manier waarop jy na die lewe kyk verander.

 

  • Stry jy teen die vyand: Satan, vlees, en die wêreld? God is met jou soos Hy met die volk was toe hulle teen die Kanaäniete moes veg (Deuteronomium 31:6, 8).
  • Vrees jy as gevolg van ‘n taak wat vir jou te groot lyk? God is met jou soos wat Hy met Josua was toe hy die volk in die Beloofde Land moes inlei (Josua 1:5, 9); soos Hy met Salomo was toe hy die tempel moes bou (1 Kronieke 28:20).
  • Is jy werkloos of angstig oor geld? God is met jou soos Hy in Hebreërs 13:5 belowe het: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”
  • Moet jy reis of is jy weg van jou familie af? God is met jou soos Hy met Jakob was toe hy deur die woestyn na sy oom toe gevlug het (Genesis 28:15).
  • Is jy ‘n onwelkom vreemdeling in die wêreld? God is met jou soos Hy met die volk was toe hulle in ‘n vreemde land moes woon (Jesaja 43:5).
  • Moet jy moeilike woorde vir iemand sê? Veg mense met jou want jy deel die evangelie met hulle? God is met jou soos wat Hy met Jeremia was (Jeremia 1:8, 19).
  • Moet jy ‘n mede-gelowige aanspreek oor sonde? God is met jou soos Jesus in Matteus 18:20 belowe het: “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” (die konteks van hierdie vers gaan oor kerkdissipline).
  • Tug God jou vir sonde? God is met jou soos Hy met Israel was toe Hy húlle moes tugtig (Jeremia 30:11, vgl. Hebreërs 12:11).
  • Vrees jy ‘n belangrike persoon of ‘n boelie? God is met jou soos Hy met Israel was teen die koning van Babel (Jeremia 42:11).
  • Moet jy ‘n groot werk vir Jesus doen? God is met jou soos Hy met die volk was toe hulle die tempel moes herbou (Haggai 1:13, 2:4).
  • Vrees jy om die evangelie te deel by die skool, die werk, of met familie? God is met jou soos Jesus vir die dissipels en Paulus belowe het: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld… Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou” (Matteus 28:20, Handelinge 18:10).
  • Moet jy na ‘n moeilike familie-situasie toe terugkeer? God is met jou soos Hy met Jakob was toe hy na 20 jaar vir Esau in die gesig moes kyk (Genesis 31:3, 32:11).
  • Moet jy as leier optree of by iemand anders oorneem? God is met jou soos Hy met Josua was toe hy by Moses moes oorneem (Deuteronomium 31:23).
  • Gaan jy deur diep waters? God is met jou soos Hy in Jesaja 43:2 belowe het: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.”
  • Voel dit of Here jou gelos het? God is altyd met jou soos Hy in Jesaja 41:10 belowe het: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” Terwyl jy op die aarde is, sal Hy altyd deur sy Gees in en by jou wees (Johannes 14:16-17). Hy sal ook vir ewig in die hemel met jou wees (Openbaring 21:3).
  • Voel dit of die duiwel jou nie wil uitlos nie? God is met jou en sal Satan gou onder jou voete verbrysel (Romeine 16:20).
  • Moet jy vrede maak met iemand? God is met jou wanneer jy dit doen (2 Korintiërs 13:11).
  • Is jy bang om dood te gaan? God is met jou as jy deur die vallei van die dood moet stap. Dawid sê: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (Psalm 23:4).

 

Vir Christene lê die grootste troos nie daarin dat God ons probleme kan wegvat nie, maar dat Hy met ons is. Ja, Hy kon keer dat Daniël in die leeukuil gegooi word of sy vriende in die vuuroond.  Maar Hy het nie.  Toe hulle egter in die leeukuil en vuuroond was, was Hy met hulle.  Ons gebed in lyding is dus nie heel eerste:  ‘Vat die pyn weg’ nie, maar ‘Help dat ek nie vergeet U is met my nie.’  Aan die kruis het Jesus gesê:  ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ sodat jy dit nooit hoef te sê nie.

 

Maar as jy sy liefde verwerp, sal Hy jou vir altyd verlaat in die hel (2 Tessalonisense 1:9). Dit hoef nie so te wees as jy deur geloof na Hom toe kom, en vra dat Hy jou red van die sonde in jou hart en op jou rekord nie.  As jy deel is van die volk wie se sonde vergewe is (v.21), is jy ook deel van die ‘ons’ in ‘Immanuel, God met ons’ (v.23).  Dan is God met jou van die begin tot die einde (v.23, 28:20), en vir ewig daarna (Openbaring 21:3).

 

Net as jy ‘Immanuel’ onthou kan jy Kersfees reg vier: nie net een keer per jaar nie, maar 24/7 totdat Jesus kom, en dan vir altyd.  Jesus se vleeswording is nie veronderstel om een dag in ‘n jaar lekker te maak nie, maar om jou hele lewe te verander.

 

In die tipiese liefdesverhaal omhels die dapper prins sy beeldskone prinses, en sê: ‘Ek sal jou nooit alleen los of verlaat nie; ek sal altyd daar wees.’  Tog weet ons dis net woorde.  Dit gebeur net in stories.  In die werklikheid los akteurs en ander mense mekaar links en regs sodra daar ‘n mooier prins of prinses verby kom.  Selfs dié wat mekaar tot die einde toe liefhet, moet totsiens sê as een van hulle sterf.

 

Met God is dit anders: Hy is altyd met ons en los ons nooit nie – nie eers in die dood of daarna nie.  Dit is die boodskap van Kersfees.  Is daar beter nuus as dit?

[1] William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew, p.142

[2] Vir oortuigende argumente kan jy die volgende bronne naslaan: E.J. Young, The New International Commentary on the Old Testament: Isaiah, vol.1; Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah; J. Gresham Machen, The Virgin Birth of Christ; William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew

[3] N.R. Neeham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, p.117 n.2

[4] Needham, vol.2, p.195

[5] Ibid, p.230

[6] Needham, vol.3, pp.251-252

[7] Needham, vol.2, p.34

[8] Needham, vol.3, p.409

God in die krip

Angels and shepherds

Deïste glo God is soos ‘n groot Horlosiemaker wat die wêreld geskep het, en Homself onttrek het sodat die ‘horlosie’ self pap loop. Volgens hulle is Hy nie aktief in die skepping nie, maar het Hy alles oorgegee aan toeval, evolusie, en die natuurwette.  God is verhewe (transendent), maar nie betrokke nie.

 

Panteïste (bv. Hindoes) glo God is in alles. Daarom is dit nie verkeerd om ‘n boom, ‘n koei, of die maan te aanbid nie.  God is betrokke (immanent), maar nie verhewe nie.

 

Volgens Lukas 2:8-20 is God verhewe en betrokke.  Hy is God in die krip.

 

Die engele (v.8-14)

Voor die era van telefone en rekenaars, moes jy vir weke of maande wag om van jou geliefdes te hoor. Vandag kan ons bel, sms, Whatsapp, Facebook, of hulle gesigte op Skype sien.  Tegnologie het geliefdes wat ver weg is naby gebring.  Tog is hulle nie regtig by jou nie.  Hulle is nogsteeds ver weg.

 

Met God is dit anders. Hy stuur nie maar net ‘n brief, of praat op ‘n afstand nie.  Hy kom aarde toe, word mens, en woon onder ons.  Dit is die punt van v.8-14.

 

Die onbelangrike herders het skape opgepas in ‘n veld buite Betlehem (v.8). Hulle het gewaak oor die skape wat bedoel was vir die tempel offers.  Die verhewe God het deur ‘n engel tot die nederige herders neergedaal (1:52, Jesaja 57:15, Psalm 138:6).  Die Goeie Nuus van die lig vir die wêreld het gekom in ‘n donker nag (v.8, Johannes 1:5).  Die engel het uit die hemel gekom.  God se shekinah heerlikheid (soos dit genoem is) het geskyn soos wat dit tevore in die wolkkolom en tabernakel geskyn het (v.9).  By Jesus geboorte het ‘n lig in die nag geskyn.  By sy dood was dit donker in die middag.

 

Toe die herders God se heerlikheid sien, het hulle gebewe net soos Moses, die volk, Esegiël, Daniël, die drie dissipels, en Johannes (v.9, Numeri 16:19-22, 42-45, 20:6, Levitikus 9:23-24, Esegiël 1:28, Daniël 10:5-11, 16-17, Matteus 17:2, 6, Openbaring 1:16-17). Die engel het vir hulle gesê hulle moenie vrees nie:  hy het goeie nuus (Gk. euaggelizo) gebring wat groot blydskap vir God se volk sou gee (v.10).  God se volk verwys na die Jode, maar ook na die heidene:  almal wat in Jesus glo (v.32, Johannes 11:50, 52, 1 Petrus 2:9, Titus 2:14).

 

Die goeie nuus is dit: ons verdien die hel maar God vergewe ons, word ons Vriend, neem ons aan as sy kinders, en gee vir ons die hemel (v.10).  Dit is juis hoekom Jesus gekom het.  Hy is gebore vir ons voordeel, nie sy eie nie (v.11, Jesaja 9:5, Handelinge 17:25).  Wie is Hy?

 

  • Hy is gebore; Hy is mens (v.11, Galasiërs 4:4).
  • Hy is die Koning uit die geslag en stad van Dawid (v.11, 4, Miga 5:1).
  • Hy is Jesus, die Verlosser wat ons van sonde en God se oordeel red (Matteus 1:21). Hy het nie gekom – soos wat baie verwag het – om die Jode van Romeinse onderdrukking te red nie (v.11). Die Romeine het geglo dat keiser Augustus (v.1) die verlosser van die wêreld is. Dit was tydens sý heerkskappy wat die ware Verlosser van die wêreld gebore is (v.11).
  • Hy is die Messias of Christus: die Gesalfde Priester, Profeet, Koning (v.11).
  • Hy is die Here: die soewereine Adonai en Jahwe van die Ou Testament. Die Romeine het vereis dat mense die keiser ‘here’ [Gk. kurios] noem. Jesus is egter die ware Here bo enige keiser (v.11).

God het ‘n baba geword wat in ‘n krip gelê het (Johannes 1:14). Tog het Hy, terwyl Hy in die krip was, die wêreld, sy ma, die sterre, die heelal onderhou  (Kolossense 1:17, Hebreërs 1:3).

 

Hoe het die herders geweet die engel is nie ‘n hallusinasie nie? Hy het vir hulle ‘n teken gegee:  hulle sal ‘n baba vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê (v.12).  Daar was geen plek vir Josef en Maria in die herberg nie (v.7).  Jesus is in armoede gebore; Hy was nie welkom in die wêreld nie (v.24, Levitikus 12:8, Filippense 2:6-7, 2 Korintiërs 8:9, Johannes 1:11).

 

Soos daar by sy tweede koms ‘n menigte van engele sal wees, was dit ook by sy eerste koms: miljoene der miljoene, tienduisende maal tienduisende (v.13, Matteus 25:31, 2 Tessalonisense 1:7, Hebreërs 12:22, Openbaring 5:11, Daniël 7:10).  Dit is ironies dat die hemelse weermag die boodskap van vrede bring!  Die engele het die baba aanbid (Hebreërs 1:6).  Hulle het ‘n belang gehad in sy lewe op aarde:  sy geboorte in die krip, sy versoeking in die woestyn, Getsemane, die leë graf, sy hemelvaart (1 Timoteus 3:16).  Die engele het Hom geprys vir sy transendensie en immanensie, sy verhewenheid en betrokkenheid.

 

Eer aan God in die hoogste hemel (v.14, Psalm 29:1-2). Hosanna in die hoogste (Matteus 21:9).  Deur Jesus in wie die Vader ‘n welbehae het, is daar vir ons vrede met God, ander, en vrede in ons siele (v.14, 3:22, Kolossense 1:20, Romeine 5:1, Efesiërs 2:14, 17, Johannes 14:27).  Hierdie vrede is nie vir dié wat in hulle sonde volhard nie (Jesaja 48:22, Jeremia 6:14), maar vir God se uitverkore volk in wie Hy ‘n behae het (Efesiërs 1:5).

 

Die herders (v.15-20)

By ‘n predikante konferensie het een van die sprekers saam met ons onder die koeltebome gesit en vriendelik gesels. ‘n Bekende prediker het ‘n ander ds. voorgestel as ‘my goeie vriend.’  Die ander man het baie geëerd gevoel toe die ds. hom sy vriend noem.  ‘n Teologie professor van Potchefstroom het onlangs Parys Baptistekerk begin bywoon.  My vriend het van die professor gesê:  ‘Hy is so plat op die aarde.’

 

Ons hou daarvan as skatryk of bekende mense nederig en plat op die aarde is. Tog is dit ‘n klein tree om van ‘n mens se vlak neer te daal tot op die vlak van ‘n ander mens.  Om van ‘n engel se vlak neer te daal tot op ‘n mens se vlak sou ‘n indruk maak.  Maar hoe verbysterend is dit dat die ewige en almagtige God uit ‘n oneindige hoogte neerdaal om mens te word?  Dit is ‘n groter sprong as vir ‘n ryk en magtige koning om ‘n wurm of modder te word.  Dit is onbegryplik.  Die herders en Josef was in verwondering, en Maria het aanhoudend daaroor gedink.  So leer v.15-20.

 

Toe die engele terug is hemel toe, het die herders na Betlehem toe gegaan om te sien wat God geopenbaar het (v.15). Die herders het gegaan om die Lam van God en die groot Herder van die kudde te besoek (Matteus 2:6, Miga 5:3, Psalm 23, Johannes 10, 1:29).

 

In hulle vreugde, het hulle hul skape in die gevaarlike nag gelos en haastig na Betlehem toe gehardloop (v.16). Soos die engel gesê het, het hulle vir Maria en Josef gesien, en ook die baba wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip gelê is (v.16, 12).  Die wyse manne en die ster was nie daar soos wat kerskaartjies wys nie.  Hulle het Hom eers later besoek toe Hy in die huis was (Matteus 2:9-11).

 

Josef en Maria het seker gewonder hoe die herders geweet het van Jesus se geboorte. Die herders het vir hulle vertel wat die engel gesê het:  Hy is die Verlosser, die Messias, die Here (v.17).  Dit het bevestig wat die engel vir Maria en Josef gesê het (1:31-35, Matteus 1:21-23).  Almal was verwonderd en verbaas (v.18).  Maria het die herders se woorde soos ‘n kosbare skat in haar hart gehou (v.19, 51, vgl. Genesis 37:11).  Sy het die woorde gedurig oordink en daaroor gepeins, sodat sy dit nie sou vergeet nie (v.19).

 

Die herders het na hulle skape toe teruggekeer (v.20). Oppad het hulle God geprys en verheerlik dat die langverwagte Messias enVerlosser gebore is (v.20).

 

Moenie vergeet dat God beide verhewe en betrokke, transendent en immanent is nie.

 

As jy sy betrokkenheid ten koste van sy verhewenheid beklemtoon, sal jy:

 

  • Leef en bid asof Hy jou ‘buddy’ is; ‘n groot Kersvader in die lug. Jy sal Hom nie saam met die herders en engele aanbid nie.
  • Hom nie vrees nie. Jy sal die onsin van mense glo wat sê dat Jesus aan hulle verskyn om ‘n koppie tee te drink.
  • In jou moles dink Hy wil jou help, maar kan nie. Jy sal elders kyk vir hulp. Jy sal hulpeloos en bang wees in jou nood en beproewing.
  • Nie sonde vrees nie. Jy sal sê God verstaan as jy verkeerd doen.
  • Bybelverse oor God se liefde afspeel teen verse oor sy heiligheid en toorn, en sê die hel bestaan nie. Gevolglik sal jy nie alles in die Bybel wil lees nie, maar net die verse wat jou laat lekker voel. Jy sal ook ‘n versagte evangelie met jou kinders en met ander deel; ‘n evangelie sonder ‘n heilige God en sy wet, ‘n oordeelsdag, en radikale selfverloëning.
  • Dink dis reg om kwaad te wees vir God. Jy sal geen respek vir Hom hê nie.
  • Oppervlakkige liede sing wat God as ‘n speelmaat uitbeeld.
  • Altyd aan Jesus dink as ‘n oulike baba in die krip, en Hom nie sien as die ewige God op sy troon nie.
  • Jouself in hoogmoed verhef. Jy kan nie sien hoe klein jý is, totdat jy besef hoe hoog Hý is nie (Jesaja 40:15, 17).
  • Nie dankbaar leef vir jou redding nie, omdat jy dink die vleeswording was ‘n klein stap van God wat Hom effens tot die mens neerbuig.

 

As jy God se verhewenheid ten koste van sy betrokkenheid beklemtoon, sal jy:

 

  • ‘n Slaafse vrees vir God hê, en nie met vrymoedigheid kan bid nie. Jy sal sê: ‘Hy is te hoog of te besig om my klein gebede te hoor.’
  • Soos Moslems aan God dink as ver verwyder. Jy sal dink jy kan nooit ‘n persoonlike verhouding met Hom hê nie.
  • Onseker leef oor die hemel. Jy sal wonder: ‘Hoe kan ‘n hoë en verhewe God sondaars in sy heilige teenwoordigheid toelaat?’
  • Nie soos die herders bly wees dat die Verlosser gekom het om jóú te red nie (v.20, 11). Jy sal dink: ‘As Hy belangstel om mense te help, is my kanse skraal. Hy sal eerder goeie mense, rykes, konings help as ‘n onbelangrike mens soos ek.’
  • Sonder God lewe en selfgesentreerd wees. Jy sal dink: ‘As ek nie na myself omsien nie, sal niemand nie.’
  • Hopeloos en hulpeloos voel in jou lyding. Jy sal vergeet van verse soos Hebreërs 4:15, Jesaja 63:9 en dink God verstaan nie jou pyn nie.

 

Leef gebalanseerd met die wete dat God verhewe en betrokke is:  Immanuel, God met ons.  Aanbid Hom as God in die krip, aan die kruis, en op die troon.  Staan in verwondering oor Hom (v.18), en moenie en apaties wees nie.  Dink en juig oor Hom as die Verlosser, die Messias, die Here (v.10-11, 19-20).

 

Jy hoef nie te voel Hy is ver weg nie. In Jesus het God naby gekom om sondaars te red en na Homself toe te bring.  Vir gelowiges is Hy deur die Gees nader as toe Hy in die krip en op aarde was:  Hy woon in ons.  Christene hoef nie depressief te wees nie.  Jesus is jou Verlosser, jou sondes is vergewe, God is jou Vader, jy is sy kind, jy het ‘n erfdeel in die hemel.  Jy sal Hom vir ewig daar geniet en aanbid as die verhewe en betrokke God.

 

Eenkeer toe ek ‘n prent vir die blog soek, het ek ‘n spotprent gesien van God wat met ‘pop corn’ op ‘n ‘lazy boy’ in die hemel sit, en op sy TV skerm kyk hoe mense op die aarde ly. Baie mense dink dit is ‘n akkurate uitbeelding van hoe dinge is.  Maar dit is glad nie so nie.  In sy boek, The Cross of Christ, haal John Stott ‘n toneelstukkie aan.[1]  Dit klink so.

 

Aan die einde van die tyd het daar biljoene mense verspreid gestaan op ‘n groot plein voor God se troon. Die meeste mense het teruggedeins voor sy helder lig.  Sommige mense naby die troon was arrogant en het hulle vuiste gebal.

 

‘Hoe kan God oordeel? Wat weet Hy van ons lyding?’ het ‘n jong brunette gesê.  Sy het haar mou afgeskeur en ‘n nommer gewys wat in ‘n Nazi konsentrasie kamp op haar arm getatoeëer is.  ‘Ons moes verskrikking, slae, marteling, en dood deurmaak!’

 

‘n Neger het gewys waar ‘n tou hom op sy nek gebrand het: ‘Ek is gelynch net omdat ek swart is!’ het hy gesê.

 

‘n Swanger skoolmeisie het nors gekyk en gesê: ‘Hoekom moet ek ly; dit was nie my skuld nie.’

 

Oral was daar groepe wat teen God gekla het oor die boosheid en lyding wat Hy in die wêreld toegelaat het. ‘God is gelukkig om in die hemel te bly waar alles soetheid en lig is; waar daar geen trane, vrees, honger, en haat is nie.  Wat weet God van wat mense op die aarde moes ly en deurmaak?  Hy is beskut in die hemel.’

 

Elke groep het hulle leier wat die meeste gely het, vorentoe gestuur: ‘n Jood, ‘n Neger, ‘n Japanees van Hiroshima, ‘n misvormde persoon met erge arthritis, ‘n kind wat sonder ledemate gebore is.  Hulle het beraadslaag in die middel van die plein.  Uiteindelik was hulle gereed om hulle saak voor God te stel.

 

Hulle het vereis dat God gevonnis moes word om as mens op die aarde te leef. Hulle het gesê:

 

‘Laat Hom as Jood gebore word. Laat mense hulle wenkbroue lig oor sy ma se “skandelike” swangerskap.  Laat sy werk so moeilik wees dat selfs sy naaste familie dink Hy is mal.  Laat die vriende wat die naaste aan Hom is Hom verraai.  Laat mense Hom valslik beskuldig en Hom met vooroordeel vonnis.  Laat Hom gemartel word.  Laat Hom op die einde ervaar wat dit beteken om alleen te wees.  Laat Hom dan sterf.  Laat Hom so sterf dat daar geen twyfel is Hy is dood nie.  Laat daar baie getuies wees om dit te bevestig.’

 

Toe die skare dit hoor, het mense saam gemor en gestem dat dit so moet gebeur. Toe elke leier klaar sy sê gesê het, was daar ‘n lang stilte.  Niemand het ‘n woord gesê nie.  Niemand het beweeg nie.  Skielik het almal besef dat God reeds die vonnis op Homself geneem het.

 

God is immanent. Hy het mens geword.  Hy is betrokke in jou menswees, in jou lyding.  Hy is ook transendent en waardig om aanbid te word.

[1] pp.387-388, vry vertaal

Wie is hierdie Jesus?

Who is Jesus

As jy in die straat loop en vir ‘n honderd mense vra wie Jesus is, sal jy seker ‘n halfdosyn of meer antwoorde kry.

 

  • Die Moslems glo Hy is die grootste profeet naas Mohammed. Hulle glo dat Hy sondeloos en uit ‘n maagd gebore is, wonderwerke gedoen het, maar nie aan die kruis gesterf het of opgestaan nie, en dat Hy nie die Seun van God is nie.
  • Hindoes glo Hy is die tiende inkarnasie van hulle god Vishnu.
  • Die Jehova’s Getuies glo Hy is ‘n god en die Seun van God, maar nie God nie.
  • Liberale teoloë glo Hy was ‘n goeie mens, maar het nie wonderwerke gedoen of liggaamlik uit die dood uit opgestaan nie.
  • Mormone glo Jesus en Satan was broers.
  • Prosperity predikers glo Jesus is ‘n tipe ‘genie’ wat voorspoed, geld, en gesondheid sal gee as jy dit net uitspreek.
  • Buddhiste sê Jesus was ‘n wyse leermeester en ‘n heilige man.
  • Ortodokse Jode glo Hy was ‘n vals Messias en ‘n bedrieër.
  • Amerikaanse film makers glo sy Naam is ‘n vloekwoord.

 

Maar op die einde maak dit nie saak wat mense dink nie.  Wat sê God van Hom?  Matteus 1:21 wys vir ons.

 

Hy is mens

In 4de en 5de eeu het die Christene in Antiochië en Alexandrië oor die Persoon van Jesus verskil.  ‘Hoe kan Hy gelyk God en mens wees?’ het hulle gevra.

 

[1] Apollinarius het gesê Jesus het nie ‘n menslike gees nie, maar net die Heilige Gees.  Soos ‘n sentaur wat half perd half mens is, is Jesus half mens en half God.

 

[2] Nestorius se volgelinge het gesê God het later in die menslike Jesus ingekom.  Soos twee persone in ‘n kameelpak klim, was daar twee persone in Jesus:  ‘n Goddelike persoon en ‘n menslike persoon.

 

[3] Eutyches het gesê sy Goddelike natuur het sy menslike geabsorbeer soos wat die see ‘n druppel wyn absorbeer, soos wat ‘n papier in die kaggel een word met die vuur.  Soos die kruising tussen ‘n perd en ‘n donkie ‘n muil word, is Jesus volkome God en mens, maar het Hy ‘n nuwe natuur.

 

In 451 n.C. het die kerk ‘n vergadering gehou by Chalcedon.  Hulle het die Skrif se lering opgesom, en daardeur gewys dat die bogenoemde drie sienings vals is.[1]  Wat leer die Skrif dan?

 

Toe Josef uitvind Maria is swanger, wou hy van haar skei (v.18-19).  Terwyl hy dit beplan het, verskyn ‘n engel aan hom om te sê dat Maria deur die Heilige Gees swanger is (v.20, Lukas 1:35).  Sonder ‘n sonar kon hy vir Josef sê dat Maria ‘n seun gaan hê (v.21).  Die feit dat Jesus uit ‘n vrou gebore sou wees, wys dat Hy volkome mens is (Galasiërs 4:4).  Hy het nie net ‘n menslike liggaam gehad nie, maar ook ‘n menslike siel en wil (Lukas 2:52, Matteus 26:38-39, Hebreërs 2:17).

 

Jesus het nie anders as ons gelyk nie; sy vyande het Hom misken vir ‘n gewone mens (Matteus 13:54-56, 26:48, Jesaja 53:2).  Soos ‘n gewone mens het Hy liggaamlike swakheid beleef, honger en moeg geword, gehuil, dors geword, en gesterf (Romeine 8:3, Matteus 4:2, Johannes 4:6, 11:35, 19:28, 30).  Dan is die kinderliedjie verkeerd om te sê:  ‘Away in a manger… the little Lord Jesus, no crying He makes.’

 

Jesus is een Persoon met twee nature:  volkome God en volkome mens.  Sy Goddelike en menslike nature meng nie in sy enkele Persoon nie.  Daar is sekere dinge wat Hy in sy menslike natuur doen wat Hy nie in sy Goddelike natuur doen nie, en andersom.  Hy het as ‘n mens gesterf, maar nie as God nie (Matteus 27:50, 1 Timoteus 6:16).  As God is Hy alomteenwoordig, maar nie as mens nie (Matteus 18:20, 28:20, Johannes 17:11).  As mens het Hy sekere dinge nie geweet nie, maar as God weet Hy alles (Psalm 139:2, Matteus 9:4, 24:36, Lukas 2:52).  As mens het Hy geslaap, alhoewel sy Goddelike natuur nie moeg word of hoef te slaap nie (Psalm 121:4, Matteus 8:24, Jesaja 40:28).  As mens is Hy versoek, maar in sy Goddelike natuur kan Hy nie versoek word nie (Matteus 4:1, Hebreërs 4:15, Jakobus 1:13).

 

Jesus se volkome mensheid beteken nie Hy was ‘n mens voor Betlehem nie (Johannes 1:1).  Dit beteken wel dat Hy vir ‘n ewig mens sal bly (1 Timoteus 2:5, Handelinge 1:9-11, 17:31, 7:56, Openbaring 1:13, 14:14).  Sy volkome mensheid beteken nie Hy het ‘n sondige natuur gehad of sonde gedoen nie.  Jesus is sonder sonde gebore (Lukas 1:35, Hebreërs 7:26).  Hy het ook geen sonde gedoen nie (Hebreërs 4:15, 1 Petrus 2:22, 2 Korintiërs 5:21, Johannes 8:46).  God het iets rein gebring uit dit wat onrein is (Job 14:4, 15:14), ‘n sondeloos mens uit ‘n sondige ma.  Iemand wat Jesus se menslikheid ontken is nie ‘n Christen nie (1 Johannes 4:2-3).

 

God kan nie sterf nie, en daarom moes Jesus mens word om vir ons sonde te sterf.  ‘n Mens het gesondig, en daarom moes ‘n mens gestraf word.  Om die mens by God te verteenwoordig, om ons Middelaar te wees, moes Jesus mens word (1 Timoteus 2:5).  Om in ons plek die wet te onderhou, moes Jesus mens word (Romeine 5:18-19).  Om die voorbeeld te wees van hoe ons moet lewe, moes Jesus mens word (1 Johannes 2:6).  Die Skrif sê:

 

“Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom.  Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.” (Hebreërs 2:16-17).

 

Jesus is in elke opsig versoek net soos jy en ek.  Soos jy en ek het Hy gely toe Hy versoek is (Hebreërs 2:18); versoeking was vir Hom moeilik.  Jesus weet dus wat jy deurmaak en kan medelye hê as (Hebreërs 4:15):

 

  • Slegte gedagtes jou uit die bloute tref soos ‘n klip uit ‘n kettie (Matteus 4:1-11).
  • Die duiwel jou versoek om nie langer op God te wag nie, maar om jouself uit te help (Matteus 4:3).
  • Jy versoek word om roem te soek (Matteus 4:9).
  • Jy bang is (Lukas 22:44).
  • Mense jou versoek om nie die moeilike pad te kies nie, maar die kort pad te vat (Matteus 16:21-23).
  • Vriende jou verlaat en in die rug steek (Matteus 26:56, 69-75).
  • Jou getrouste ondersteuners in jou twyfel (Matteus 11:3).
  • Jou eie familie jou verwerp (Matteus 13:57, Markus 3:21, Johannes 7:5).
  • Kerkmense jou probeer uitwerk (Matteus 12:14).
  • Mense jou sukses toeskryf aan Satan (Matteus 12:24).
  • Mense teen jou draai nadat jy gaaf was met hulle (Johannes 6:11, 66).
  • Mense leuens oor jou vertel (Matteus 26:60).
  • God nie jou gebede beantwoord nie (Matteus 26:44).
  • Mense jou misverstaan en jou woorde verdraai (Matteus 26:61).
  • Die skuldige persoon vrykom en jy, die onskuldige, gestraf word (Matteus 27:20).
  • Die feite wys jy is onskuldig, maar jy word nogsteeds gestraf (Matteus 27:26).
  • Mense jou uitlag, spot en boelie (Matteus 27:27-44).
  • Dit voel of God nie by jou is nie (Matteus 27:46).
  • Mense jou oordeel nog voordat hulle jou ken (Johannes 1:47).
  • Jou geliefdes sterf (Johannes 11:35).
  • Vriende vals is en jou verraai of rapporteer (Markus 14:10-11).
  • Mense jaloers is op jou (Markus 15:10).
  • Jy pyn ervaar (Matteus 27:26).
  • Jy deur die dood moet gaan (Johannes 19:30).

Bid met die wete dat Hy verstaan wat jy deurmaak (Hebreërs 4:16, 15).  Watse troos is daar as Jesus nie ook ‘n mens is nie?

 

Hy is God

In 318 n.C. het ‘n Libiese prediker genaamd Arius in Alexandrië gepreek dat die Vader alleen God is, en die Seun geskep is.  Hy het geglo dat die Seun die hoogste skepsel is, maar nie God nie.  Hy het gesê dat as die Seun God is soos die Vader, daar twee Gode is.  Biskop Alexander van Alexandrië het vir Arius teëgegaan, en hom in 320 van die kerk afgesny vir dwaling.

 

Die Kerk was verdeeld.  In 325 het Keiser Konstantyn 300 kerkleiers in Nicea laat vergader om die saak te bespreek.  Die vergadering het erken dat Jesus een is met die Vader, en in elke opsig aan Hom gelyk.  Slegs Arius en twee van sy vriende het geweier om saam te stem.  Konstantyn het hulle verban.

 

Maar die saak was nie opgelos nie.  Een groep het gesê Jesus is nie geskep nie, maar is tog in ‘n laer klas as die Vader.  Hulle is die Origeniste genoem.  Athanasius het teen hulle geveg.  Hy het sy lewe gegee om te preek en te skryf dat Jesus volkome God is.  Na 45 jaar as biskop van Alexandrië het hy gesterf.

 

Die Origeniste het tot hulle sinne gekom en erken dat Jesus in elke opsig gelyk is met die Vader.  In 381 het hulle ‘n vergadering in Konstantinopel gehou.  Hier het hulle erken dat die Heilige Gees ook volkome God is.  Hierdie vergadering het die finale dood van Arius se lering beteken.[2]

 

In die laat 1800’s het Charles Russel (die vader van die Jehova’s Getuies) hierdie lering uit die dood opgewek.  Dit is egter duidelik uit die Skrif dat Nicea en Konstantinopel se vergaderings, asook Athanasius reg was, en dat Arius en die Jehova’s Getuies verkeerd is.

 

Om te wys dat Hy die Seun van God is, was Jesus nie die seun van Josef nie, maar is Hy in die Heilige Gees se krag gebore (v.21, 20, Lukas 1:35).  Die Joodse verstaan van ‘Seun van God’ was dat Jesus gesê het dat Hy God self is (Johannes 5:18, 10:33, 36).  Die hele Skrif bewys dat Jesus God is.

 

[1] Daar is tekste wat direk sê dat Hy God is.  In v.23 sê Matteus dat Jesus Immanuel is:  God met ons.  Romeine 9:5, Johannes 1:1, 20:28, Hebreërs 1:8-9, Titus 2:13, 2 Petrus 1:1, 1 Johannes 5:20, Jesaja 9:6 praat van Hom as God.  Hebreërs 1:3 sê Hy is die presies afdruksel van God se wese en die afskynsel van sy heerlikheid.  Filippense 2:6 sê dat Hy op God-gelyke wyse bestaan het.  Volgens Kolossense 1:19, 2:9 woon die volheid van God in Hom.

 

[2] Jesus praat van Homself as EK IS – God se Naam in Eksodus 3:14.  Die Jode het gevrees en wou Hom doodmaak toe Hy hierdie Naam van Homself gebruik het (Johannes 8:58-59, 18:4-6).

 

[3] Jesus noem Homself die Seun van die mens (Matteus 16:13).  Hy, sowel as die Joodse leiers, het geweet hierdie is ‘n Goddelike titel wat uit Daniël 7:13-14 kom (Matteus 26:64-66).

 

[4] Jesus het al die eienskappe wat God het.  Hy is almagtig soos God (Matteus 8:26-27, Psalm 107:29), die Eerste en die Laaste (Openbaring 1:8, 11, 17, 2:8, 22:13, Jesaja 44:6), alwetend (Johannes 2:25, 16:30), aanbiddingswaardig (Hebreërs 1:6, Filippense 2:9-11, Matteus 4:10, Openbaring 5:9-14), roemryk (Johannes 2:11, 17:5, Jesaja 48:11), onveranderlik (Hebreërs 13:8, Maleagi 3:6), en meer.

 

[5] Jesus het Name wat in die Ou Testament van God gebruik word.  Hy is die Here (Lukas 2:11, Matteus 3:3, 22:44, Hebreërs 1:10-12), Verlosser (Lukas 2:11, Jesaja 45:21-22, 43:11, Hosea 13:4), die Koning (Psalm 47:8, Openbaring 19:16), die Regter (Genesis 18:25, Johannes 5:22), die Rots (Deuteronomium 32:4, 1 Korintiërs 10:4), die Herder (Psalm 23, Johannes 10), die Skepper (Genesis 1:1, Psalm 96:5, Jeremia 10:11, Johannes 1:3, Kolossense 1:16).

 

Jesus is een met die Vader (Johannes 10:30, 14:9).  Tydens sy vleeswording het Hy vir ‘n kort tydjie die onafhanklike gebruik van sy Goddelike eienskappe opgegee (Filippense 2:6-7).  Daarom sê Hy in Johannes 14:28:  ‘My Vader is groter as Ek.’

 

Watse verskil maak dit as Jesus net ‘n goeie profeet was en nie God nie?  Heel eerste sou Hy ‘n leuenaar wees, omdat Hy gesê het Hy is God.  As Jesus nie God is nie, kon Hy nooit binne ses ure aan ‘n kruis die ewige straf vir ons sonde op Homself neem nie.  As Hy nie God is nie, kan Hy ook nie die Middelaar wees wat God aan ons openbaar nie.  As Hy nie God is nie, kan Hy ons nie red nie, want geen mens kan ‘n ander se siel loskoop nie – net God kan (Psalm 49:8, 16).  As jy nie glo Hy is EK IS nie, sal jy in jou sonde sterf (Johannes 8:24).  Iemand wat hierdie Jesus verwerp, het ook nie die Vader nie (1 Johannes 2:23).

 

Erken dan Jesus se Godheid in jou lewe, en leer dit vir jou kinders.  Hoe doen jy dit?

 

  • Ons het van kleins af geleer dat Jesus God is. Dit help egter nie dat ons, soos baie Afrikaners, sy Godheid in ons koppe erken, maar in die praktyk in rebellie leef en nie die knie buig nie.
  • Moenie vir jou kinders die idee gee dat Jesus gelyk is met Kersvader, of dat Hy niks meer is as liewe Jesus in die krip nie.
  • Moenie so oor Hom praat dat jou kinders dink Hy is ‘n klein Jesus wat nie in ons lewens betrokke is nie, maar net Iemand is vir wie ons rympie-gebede sê voordat ons eet en slaap.
  • Ouers wat traak-my-nie-agtig is m.b.t. stiltetyd, huisgodsdiens, nagmaal, en eredienste, leer vir hulle kinders dat Jesus nie waardig is om aanbid te word nie.
  • Ouers wat op Sondae heilig is, maar op Saterdae vloek en te veel drink by die braai en lelike stories kyk, leer vir hulle kinders om vir Jesus lippediens te gee, maar Hom nie as God in hulle lewens te erken nie.
  • Party mense bely dat Jesus God is, maar is kwaad as Hy nie doen wat hulle wil hê nie. Hulle word kwaad asof Jesus hulle speelmaat is en nie die heilige God nie.
  • Vandag praat party Christene asof Jesus gelyk is met ander godsdienste. Indirek sê hulle dat Jesus net ‘n goeie mens is en nie God nie. Hoe is Jesus dan groter as die res van ons?

 

Jesus is volkome mens, maar Hy is nie net ‘n mens nie.  Hy is volkome God ook.  Onthou dit as jy bid.  As jy jou probleme met jou vriende deel wíl hulle help, maar hulle kan nie altyd nie.  Ander mense kán weer help, maar hulle wil nie.  Jesus is nie so nie.  Hy is ‘n mens, verstaan jou stryd, en het simpatie.  Hy is die almagtige God en kan jou help met enigiets.  As jy ‘n Jesus aanbid wat nie volkome God en mens is nie, aanbid jy ‘n vals Jesus.

 

Hy is die Messias

‘n Paar jaar gelede het ek ‘n artikel op die blog gesit om te wys dat Jesus die Messias is.  ‘n Christen vrou het dit gelees en gesê dit is net wat sy nodig gehad het, omdat sy begin twyfel het.  Soos jy goed weet, verwag die Jode dat die Messias nog moet kom.  Hulle glo nie Jesus is die Een nie.  Maar die Bybel wys duidelik dat Hy die Messias is.

 

Die kanse dat net agt profesieë in Jesus Christus vervul word, is een uit 1000 000 000 000 000 000.  Dit is asof jy soveel R1-munte skommel en die enkele gemerkte muntstuk die eerste keer raakvat.[3]  Wat is dan due kanse dat 456 Messiaanse profesieë in een Man vervul word?  Tog is almal in Hom vervul.  Daar is geen twyfel dat Jesus die Messias is nie.

 

Die engel het vir Josef gesê Maria gaan ‘n seun hê (v.21).  In die ou tyd was dit baie belangrik, omdat die oudste seun die erfgenaam was (Hebreërs 1:2).  Die feit dat Maria se seun uit die geslag van Dawid sou wees (v.1), het bewys dat Hy die wettige opvolger tot die troon was (Lukas 1:32-33).  Die woord Messias of Christus beteken gesalfde.  Jesus is die gesalfde Koning (Hebreërs 1:9).

 

Die Ou Testament het voorspel dat:[4]

 

  • Die Messias uit ‘n maagd, in Betlehem, uit die stam van Juda, en uit die geslag van Dawid gebore sou word.
  • Hy in Galilea sou preek, op ‘n donkie sou ry, en deur ‘n vriend verraai sou word.
  • Hy sou stilbly by sy verhoor, onskuldig sou wees maar gestraf word, geslaan sou word, tussen misdadigers sou sterf, vir sy vyande sou bid.
  • Hy Psalm 22:2 sou sê, en dat sy vyande Psalm 22:8-9 sou sê.
  • Hy dors sou wees en sy vyande vir Hom suurwyn sou gee.
  • Daar spykers deur sy hande en voete gedryf sou word.
  • Sy vyande sy klere sou verdeel en lote sou trek vir sy kleed.
  • Sy vyande ‘n spies in sy sy sou steek.
  • Hy in ‘n ryk man se graf begrawe sou word.
  • Hy sou opstaan uit die dood.
  • Hy aan God se regterhand sou sit.

 

Al hierdie dinge het so gebeur om te wys dat Hy die Messias is.

 

Leef hoopvol dat Jesus die Messias is.  Moenie hopeloos lewe soos die Jode by Jerusalem se klaagmuur nie.  Moenie hopeloos lewe asof die morele verval in ons land en wêreld nie sal ophou nie, asof die Moslems die oorhand gaan kry nie.  Moenie na ‘n menslike leier, land, of die Verenigde Nasies kyk om die gemors op te los nie.

 

Net soos wat Jesus by sy eerste koms die profesieë vervul het, sal Hy dit by sy tweede koms doen.  Dan sal die wêreld se konings en hulle ryke syne word (Openbaring 11:15).  Dan sal Hy oor die nasies regeer (Psalm 2:8-9).  Dan sal Hy geregtigheid, vrede en voorspoed bring (Psalm 72, Jesaja 9:6).

 

Moet dan nie die illuminati, die een wêreld orde, die 666, of die Antichris vrees nie.  By sy koms sal Jesus sy vyande doodmaak met die asem van sy mond (2 Tessalonisense 2:8).  By sy eerste koms het die nederige Jesus op ‘n donkie gery.  By sy tweede koms sal Hy oorlog maak en op ‘n wit perd ry.  Moet Hom nie in teorie of praktyk as die Messias verwerp nie.  Jy wil Hom nie vir ‘n vyand hê nie.  Buig eerder die knie gewilliglik, sodat jy nie later onder dwang die knie moet buig en sy toorn voel nie (Filippense 2:10).

 

Hy is die Verlosser

In baie Christene se denke is Jesus ‘n Verlosser wat nie eintlik verlos nie, maar net redding moontlik maak.  Hy is soos ‘n lewensredder op ‘n boot wat die reddingsboei in die water gooi vir die een wat verdrink, en hoop die drenkeling vat dit raak.  Volgens die Skrif is Jesus ‘n lewensredder wat in die water spring, die drenkeling uitred, en sy eie lewe prysgee.  Jesus sterf nie in die hoop dat iemand dit sal aanvaar nie, maar sterf om sy uitverkore volk van sonde te red, sodat hulle goeie werke sal doen (1 Petrus 2:9, Titus 2:14).  Hierdie les is duidelik in Matteus 1:21.

 

Die engel het gesê Josef moet Hom Jesus noem (v.21).  Josef was gehoorsaam (v.25, Lukas 1:31, 2:21).  Die Naam het sy missie en karakter gewys.  Jesus is sy menslike Naam en is die Griekse  eweknie van die Hebreeuse naam ‘Josua’.  Die Naam beteken ‘Jahwe verlos’ (Lukas 2:11).  Soos Josua die volk in die Beloofde Land ingelei het, lei Jesus ons na die hemelse Land toe.  Hy verlos ons van sonde soos wat Josua die volk van sy vyande verlos het. Jesus red ons van:

 

[1] Die straf van sonde deur ons sondige rekord skoon te vee (Galasiërs 3:13, Kolossense 2:14).

 

[2] Die mag van sonde in ons lewens (Romeine 6:14, 1 Johannes 3:8).

 

[3] Die plesier van ons sondige begeertes (Romeine 7:15).

 

[4] Sonde se diep wortels in ons harte:  ons sondige dade en die sondige natuur wat ons by Adam geërf het (Efesiërs 2:1-5, Romeine 5:19, Psalm 51:7).

 

[5] Die teenwoordigheid van sonde (Openbaring 22:3, 15).  In die hemel sal daar nie sonde óf versoeking teenwoordig wees nie.

 

Wie is ‘sy volk’ wat Hy sou red?  Nie net Jode nie, maar Jode en heidene – die hele wêreld (Johannes 3:16, 11:51-52, 1 Johannes 2:2, Openbaring 5:9).  Die Vader het hierdie mense gekies, die Seun het hulle met sy bloed gekoop, en God het hulle met die Heilige Gees verseël (Efesiërs 1:3-14, Johannes 17:2, 6, 9-10, 20, 24).  Let mooi op dat hulle sy volk is nog voordat Hy hulle red (v.21).  Jesus het sy lewe gegee vir sy kerk, vir sy skape (Efesiës 5:25, Handelinge 20:28, Johannes 10:11, 1 Tessalonisense 5:9-10).

 

Lewe in die skaduwee van hierdie verlossing.  Ontvang dit deur te glo dat die kruis jou enigste hoop is vir vergifnis en ‘n skoon rekord.  Vertrou dat Jesus alleen sterk is om jou te red van sonde se mag en die komende oordeel.  Glo dat die kruis sy liefde vir sondaars wys, dat Hy jou nie sal wegwys nie.  Hy is meer as bereid om jou te red (Johannes 6:37).

 

Is jy gered, maar jy geniet jou sonde?  As dit die geval is, moet jy dubbel seker maak jy is uitverkies en gered (2 Petrus 1:10, 2 Korintiërs 13:5).  Is jy gered, maar moedeloos oor jou sondestryd?  Jou sonde is nie groter as die kruis nie; jy kán wen.  Skep moed.  Jy is amper in die hemel en dan sal sonde jou nie meer pla nie (Romeine 7:24-25).  Is jy gered, maar is bang jy verloor jou redding?  Deur sy kruisdood het Jesus jou sondige rekord skoongevee (Kolossense 2:14).  As jy geen sonde op jou rekord het nie, kan daar geen klag teen jou wees nie (Romeine 8:1, 33).

 

Is jou hart koud en onaangeraak as jy oor die kruis sing, ‘n preek daaroor hoor, of die nagmaal gebruik?  Bid dat die Heilige Gees jou sonde en die verdiende straf vir jou sal wys.  Vra dat Hy vir jou sal wys dat Jesus die onskuldige en rein Lam van God is wat jou liefgehet het, en die aaklige straf gedra het wat jy verdien.  Dan sal jy nie anders kan as om Hom te prys nie.  Jy sal Hom liefhê, omdat Hy jou eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19).  Dit is niks minders as reg dat jy Hom so prys nie, want jy skuld Hom jou lewe (Romeine 12:1).

 

Toe my oupa op sy sterfbed was, het hy oor Jesus gesê:  ‘The world will never see that again.’  Hy het nie bedoel dat Jesus nie weer na die wêreld toe sal kom nie, maar eerder dat die wêreld nooit weer iemand so groot soos Jesus sal sien nie.  Samuel Porter Jones was ‘n Amerikaanse Metodiste prediker in die 1800’s.  Hy het die volgende bekende woorde geskryf.[5]

 

‘More than 2000 years ago there was a man born contrary to the laws of nature. He laid aside his purple robe for a peasant’s tunic.  He was rich, yet for our sake He became poor.  This man lived in poverty and was raised in obscurity.  He received no formal education and never possessed wealth or widespread influence.  He never traveled extensively.  He seldom crossed the boundary of the country in which He lived.  But this man’s life has changed the course of history.

 

In infancy He startled a king.  In childhood He amazed religious scholars.  In manhood He ruled the course of nature – walked on stormy waves and hushed the raging sea to sleep.  He healed multitudes without medicine and made no charge for his services.  He never practiced psychiatry, yet He has healed more broken hearts than all the doctors far and near.  He never wrote a book, yet his life has inspired more books than any other man.  He never wrote a song, yet He has furnished the theme for more songs than all songwriters combined.  He never founded a college, but all the schools put together cannot boast of having as many students.  He never marshaled an army.  He never drafted a soldier or fired a gun.  Yet no leader ever had more rebels surrender to him without a shot fired.

 

Herod could not kill Him.  Satan could not seduce Him.  His enemies could not destroy Him.  The grave could not hold Him.  After three days he rose from the dead, alive forevermore!  He is the ever-perfect One.  He is the Christ, the Son of the living God.  This man stands forth upon the highest pinnacle of heavenly glory, proclaimed by God, acknowledged by angels, adored by his people, and feared by devils as the risen Lord and Savior, Jesus Christ.’

[1] Wayne Grudem, Systematic Theology, pp.554-558, en N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.266-276

[2] Needham, pp.201-223

[3] Hierdie navorsing is gedoen deur Peter Stoner, ‘n wetenskap professor by Westmont College.

[4] Vir teksverwysings sien https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2013/10/09/21-bewyse-dat-jesus-die-messias-is/

[5] Crossway Uitgewers het dit in moderne Engels aangepas.

’n Tyd om te gee

Giving gift

Waar het die idee van Kersvader ontstaan?  In die vierde eeu was daar ‘n biskop van Mira genaamd Nicholas.  Toe hy jonk was het hy groot rykdom geërf toe sy ouers dood is.  Hy het met vrygewigheid aan die armes uitgedeel.  Op 6 Desember 326 n.C. is hy dood.[1]  ‘n Ander teorie sê dat daar in die sesde eeu, in die tyd van keiser Justinian, ‘n Nicholas van Sion gelewe het.  As ‘n huldeblyk aan die vrygewige Nicholas van Mira, het Nicholas van Sion op 6 Desember geskenke aan kinders uitgedeel.[2]  In Nederland het hulle hom Sante of Sinter Klaas genoem.  Vandaar die naam Santa Claus.  Ongelukkig het ons hom verafgod, sodat Kersfees oor hóm gaan en nie oor Jesus nie.  Die punt is eenvoudig dít:  soos Nicholas van Mira moet ons vrygewigheid nie tot een dag in die jaar beperk wees nie.  Om ons aan te spoor om deurgaans te gee gebruik Paulus in 2 Korintiërs 8:9 twee motiverings.

 

Ons ervaring

Hou jou kinders daarvan om by SPUR te eet?  Die meeste van hulle weet nie wat die naam beteken nie.  Die Afrikaanse woord is ‘spoor’ en verwys na ‘n klein metaal wieletjie agter op die hak van cowboys se stewels.  Dit is die ‘chink chink chink’ geluid wat jy op films hoor wanneer ‘n cowboy in ‘n kroeg instap.  Hulle het die punte van die wieletjie teen die perd se sy gedruk om hom te laat hardloop of om hom in ‘n sekere rigting te lei.

 

Die arm Christene in Jerusalem het hulp nodig gehad.  Die gemeentes in die noordelike en suidelike provinsies[3] van Griekeland het ingestem om ‘n bydrae te maak.  Paulus het die gemeentes (onder andere Korinte in die suide) besoek om die geld te ontvang en Jerusalem toe te neem.  Om die Korintiërs aan te spoor (‘spur’!) om te gee het hy die voorbeeld van die brandarm Macedoniërs gebruik, “dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid.

Want hulle was na vermoë—ek betuig dit—ja, bo vermoë gewillig, en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang; en het nie alleen gedoen soos ons verwag het nie, maar het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God” (v.2-5).

 

Dit was ‘n goeie spoor, maar was dit sy mees effektiewe spoor?  Hoe kon hy die Korintiërs aanspoor om vir die armes te gee?  Sou hy die wet gebruik en sê dat hulle, soos die Jode in die Ou Testament, ‘n tiende moet gee?  Blykbaar nie:  “Ek sê dit nie as ‘n bevel nie” (v.8).  Genade is ‘n beter spoor:  “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus” (v.9).  Die Korintiërs het ‘n intieme kennis en ervaring van God se genade gehad.  Hulle het teen God gerebelleer, gelewe asof Hy nie bestaan nie.  En tog het Hy sy Seun gestuur om die straf te kry wat hulle verdien het.  Jesus het ewige lewe en vrede vir hulle gegee – verniet.  Nou was Hy húlle Here Jesus Christus (v.9).  Die Griekse werkwoord ‘ken’ staan in ‘n voortdurende tydsvorm en dui aan dat hulle aanhoudend sy genade ervaar het.  Kan enigiemand dié genade ervaar en nié aan ander genade bewys nie?  Selfs meer as dit:  dié genade het hulle harte verander en instaat gestel om ander lief te hê en te gee (v.9, 1).

 

Laat God se genade jou aanspoor om genadig met ander te wees, sodat jy met ‘n oop hand gee.  Kan jy genadig wees as jy self nog nie God se genade ervaar het nie?  Om sy genade te smaak moet jy eers besef dat jy ‘n groot sondaar en Hy ‘n groot Verlosser is.  Besef dat God jou sonde haat en dat Jesus jou enigste hoop is.  As jy jou bekeer sal jy sy genade ontvang en vergewe word.  Hoe moet jy op sy genade reageer?

 

[1] Laat sy genade, nie die tiende-wet nie, jou dryf wanneer jy vir sy werk gee.

 

[2] Deel die genade wat jy ontvang het, met ander.  Deel dit onder andere deur die evangelie vir ander te vertel.

 

[3] Jy het teen God gesondig en tog was Hy genadig om jou te vergewe.  Wees só genadig met die wat teen jóú sondig:  “vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efesiërs 4:32).

 

[4] Gee uit die bloute vir iemand ‘n geskenk, al het sy of hy dit nie verdien nie.  Kersgeskenke is ‘n goeie voorbeeld.

 

Hoekom sê die Bybel dat God se genade jou moet motiveer om te gee?  God sê so omdat net genade jou hart kan verander.  Die wet kan dit nie regkry nie.  Daarom weet nét gelowiges hoe om vir hulle vyande te gee.  Jesus het gesê:

 

“En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle?  Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet.  En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle?  Want die sondaars doen ook dieselfde.  En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle?  Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.  Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.  Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.” (Lukas 6:32-36).

 

Sy voorbeeld

Chris was die eerste boer wat ‘n biljoenêr geword het.  Sy bankrekening is $15 biljoen sterk.  Op ‘n dag het hy besluit om sy boerdery, geld, en rykdom te los om Indië toe te trek.  Hy het tussen die armstes gaan woon en soos hulle geleef.  Dít het hy gedoen om hulle te leer om te boer, sodat hulle ryk kon word.

 

Hierdie kort gelykenis gee vir ons ‘n idee van wat Jesus vir ons gedoen het.  Jesus is die Seun van God.  Hy is die Here.  Hy het die ewige skatte van die hemel gehad.  Sy woorde was:  “Alles wat die Vader het, is myne” (Johannes 16:15).  “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” (Johannes 17:5).  God het Hom “as erfgenaam van alles aangestel” (Hebreërs 1:2).  Uit liefde vir ons het Hy sy hemelse heerlikheid verlaat.  Beteken dit dat Hy vir 33 jaar opgehou het om God te wees?  Het Jesus tydens sy aardse lewe opgehou om alomteenwoordig, almagtig, en alwetend te wees?  Hoe het Hy die storm stilgemaak as Hy nie almagtig was nie (Matteus 8:27)?  Hoe het Hy die Fariseërs se gedagtes geken as Hy nie alwetend was nie (Matteus 9:4)?  Hoe kon Hy sê:  “waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde… Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matteus 18:20, 28:20), as Hy nie alomteenwoordig was nie?  Ja, in sy menslike natuur kon Hy nie hierdie dinge doen nie.  Maar in sy Godheid het en kon Hy dit altyd doen.  Jesus het nooit opgehou om God te wees nie.  Maar Hy het sy hemelse heerlikheid verlaat en aarde toe gekom om ons te red.

 

Jesus het soos ons geword:  arm.  Dít is wat die mens in sy sondige toestand is.  Jesus het ons sondige vlees op Homself geneem (Romeine 8:3).  Dit beteken nie Hy het gesondig nie, maar dat Hy die gevolge van die sondeval in sy liggaam gevoel het.  Hy het moeg geword, pyn ervaar, hartseer geword, honger gehad, en gesterf.  Die wêreld het Hom nie verwelkom nie.  As baba is Hy in ‘n krip neergelê.  Hy was arm en het soos ‘n misdadiger gesterf.  “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Filippense 2:6-8).

 

Omdat Hy ons ‘armoede’ op Homself geneem het, kan ons die heerlikheid en rykdom van die hemel erf:

 

  • “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” (Romeine 8:17).
  • “Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Korintiërs 3:21-23).
  • “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efesiërs 1:3).
  • “die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus” (Efesiërs 3:8).
  • “Luister, my geliefde broeders—het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?” (Jakobus 2:5).
  • “sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Petrus 1:4).

 

Gee soos Jesus.  Hoe is dit?  Moenie net oor kerstyd gee, slegs vir geliefdes gee, net gee as jy dit kan bekostig, of mededeelsaamheid tot geld beperk nie.  Gee jouself vir die Here en vir ander.  Gee geskenke.  Kan jy jou vaardighede, tyd, energie, en gebede gee om ander te help?  Dalk kan jy jou oor gee om na iemand se hartseer of probleme te luister.  Laat Jesus se krip en kruis jou dryf om met opoffering te gee, sodat verlore sondaars ewige rykdom mag beërwe (6:10).  Vir party sal dit prakties beteken hulle moet alle aardse rykdom los, en die evangelie Indonisië toe vat, sodat verlore sondaars ryk kan word.

 

Hoekom moet jy Jesus se voorbeeld hierin volg?  Laat die Skrif antwoord:

 

“Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het… Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.  Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?  My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.” (1 Johannes 2:6, 3:16-18).

 

R.G. LeTourneau het in graad 6 skool verlaat.  Later in sy lewe het hy skatryk geword.  Hy het die wêreld se nommer 1 grondverskuiwings besigheid gehad.  Hy het 90% van sy inkomste vir die verspreiding van die evangelie gegee, en op 10% gelewe.  Hy het in sy Here se voetspore gevolg en gegee, sodat ander die rykdom van die hemel kon geniet.  Is dit nie waaroor Kersfees, nee Christenskap, gaan nie:  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun GEGEE het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)?

[1] http://calledconvictedconverted.com/tag/santa-claus/

[2] Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World, p.393

[3] Macedonië en Agaje

Prys die Here vir Kersfees!

Christmas carols

Baie mense gebruik die woord ‘halleluja’ sonder om te dink wat dit beteken (‘prys die Here’).  Ons gebruik dit soms in ‘n leë herhaling van woorde as ons in die kerk sing.  In sommige kerke sê mense dit uit gewoonte as die dominee preek.  Dit word selfs in sekulêre liede gebruik:  ‘It’s raining men, hallelujah!’  Elisabet en Maria se lof in Lukas 1:39-56 was nie goedkoop nie.  Soos húlle, moet ons verstaan wat dit beteken as ons sê:  ‘Prys die Here vir Kersfees!’

 

Elisabet se lof (v.39-45)

By ‘n veiling word ‘n ontwerpersnaam aandrok verkoop vir R15 000.  Nog ‘n rok wat presies dieselfde lyk word later vir R6 miljoen verkoop.  Wat was die verskil tussen die twee rokke?  Die tweede rok is deur prinses Diana gedra.  Maria was soos die tweede rok:  sy was nie anders as ander vroue in Israel nie.  Wat haar anders gemaak het, is dat God haar gekies het om geboorte te gee aan die Messias.  God het haar nie gekies omdat sy geseënd was nie; sy was geseënd omdat Hy haar gekies het.  ‘It’s not who you are, but Whose you are.’

 

God het deur sy engel vir Maria gesê dat die Messias uit haar gebore sal word.  Hy het ook vir haar gesê dat haar familielid (Elisabet) wat nie kinders kon hê nie, swanger was (v.36).  Maria sou nie deur ‘n man swanger word nie, maar deur die bonatuurlike werking van die Heilige Gees.  Omdat net sy dit geweet het, het sy vir ‘n ruk in Judea gaan bly.  Sou wou nie hê dat mense moes dink sy het rondgeslaap nie.

 

Elisabet se man was ‘n priester.  Sy het waarskynlik in Hebron, die dorp van priesters, gebly (v.65, Josua 20:7, 21:11).  Toe Maria by hulle huis aankom en vir Elisabet groet, het die baba binne haar bly geword en geskop:  “En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring… Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.” (v.41, 44).  Onthou dat die baba reeds van die moederskoot af met die Gees vervul is (v.15).  Elisabet het deur die Gees geweet dat die Messias uit Maria gebore gaan word.  Daarom het sy vir Maria gesê:

 

“Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!  En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?” (v.42-43).

 

Maria het guns, vreugde, en seën ontvang omdat sy die Messias in haar skoot gehad het – nie omdat sy beter was as ander vroue nie.  Die baba, nie die ma nie, was uniek.  Elisabet noem die baba ‘my Here’, maar praat van Maria as sy moeder (v.43).  Sy het dus erken dat die baba God en mens is (2:11, 20:42, Johannes 20:28).  Maria was anders as Elisabet se man Sagaria.  Sagaria het nie geglo wat die engel vir hom gesê het nie (v.20).  Maria het geglo, en daarom was sy geseënd (v.45).

 

Prys die Here hierdie Kersfees vir die seën wat ons in Jesus het.  Om die lof te gee wat Hom toekom, moet jy ‘n begrip hê van die seën wat jy in Hom het:

 

  • In Hom het jy alle geestelike seëninge in die hemel (Efesiërs 1:3).
  • In Hom is jy uitverkies om heilig te wees (Efesiërs 1:4).
  • In Hom is jy in liefde bestem om as sy kind aangeneem te word (Efesiërs 1:5).
  • In Hom het jy verlossing deur sy bloed (Efesiërs 1:7).
  • In Hom is jou sondes vergewe (Efesiërs 1:7).
  • In Hom het jy ‘n erfenis in die hemel (Efesiërs 1:11).
  • In Hom het jy die Gees as waarborg van hierdie erfdeel ontvang (Efesiërs 1:13-14).
  • In Hom het jy alles as ‘n genadegawe van God ontvang – selfs jou beproewing sal uiteindelik vir die goeie uitwerk (Romeine 8:32, 28).
  • In Hom het jy die wysheid van God (1 Korintiërs 1:30).
  • In Hom het jy die geregtigheid van God (1 Korintiërs 1:30).
  • In Hom het jy heiligmaking (1 Korintiërs 1:30).
  • In Hom het die Vader jou lief (Johannes 16:27).
  • In Hom het jy die Woord om jou te leer, te lei, te vertroos, te vermaan, te versterk, en te bemoedig.
  • In Hom het jy die gawe van gebed om te vra en te ontvang.
  • In Hom het jy ‘n geestelike familie, die kerk.

 

As jy dié dinge reg verstaan, kan jy nie anders as om Hom te prys vir die seën wat jy in Jesus ontvang het nie.  Laat jou kersversierings, die kersfees CD’s wat in jou huis speel, die geskenke, en die feesviering van Hóm vertel en nie van Kersvader nie.  Leer vir jou kinders dat Kersfees oor Jesus gaan en dat die ou man met die rooi pak en die wit baard onbelangrik is.  Moenie vir jou kind die idee skep dat Kersfees oor Jesus én Kersvader handel nie.  Jesus alleen moet geprys word.  Kersvader beloon kinders wat soet was; Jesus het ons liefgehad ten spyte van ons sonde.  Prys Hóm.  Deel die seën van Christus met ander.  Vertel hulle van die wonderlike geskenk wat ons in Jesus ontvang het.  Vertel hulle van die vergifnis, verlossing en lewe wat gekom het deur sy kruisdood en opstanding.  Sê vir hulle dat ons nie ons plek in die hemel hoef te koop nie, maar dat die ewige lewe ‘n gratis geskenk is vir almal wat hulle bekeer in op Jesus vertrou (Romeine 6:23).

 

Gee ook vir Jesus geskenke om dankie te sê vir sý geskenk.  Ons kan wel nie goud, wierook, en mirre na die baba toe bring nie, maar ons kan nogsteeds vir Hom geskenke gee.  Die Bybel sê:

 

“Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.  Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê:  Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?  En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?  En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?  En die Koning sal antwoord en vir hulle sê:  Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Matteus 25:35-40).

 

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1).

 

“Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.  Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.” (Hebreërs 13:15-16).

 

As jy nie moeite doen om die Here te prys nie, sal die wêreld jou maklik intrek om Kersfees te kommersialiseer en te dink dit gaan hoofsaaklik oor geskenke en lekker kos.

 

Maria se lof (v.46-56)

Tannie Agnes is 83 jaar oud.  Sy is ‘n weduwee en woon in ‘n groot huis.  Sy stel nie belang in kuns nie, en het ‘n ou skildery in die solder gebêre.  Dit lê al vir jare daar en stof vergader.  Omdat sy oud is kom sy nooit meer in die solder nie.  Op ‘n dag vra sy ‘n jong man om die solder te kom skoonmaak.  Daar ontdek hy die peperduur kunswerk.  Skielik vind sy uit dat die nederige kunswerk miljoene rande werd is.  So het God met Maria gemaak:  Hy het die nederige maagd verhef om die Messias se ma te word.[1]

 

‘n Teleskoop wys iets van ‘n ster of planeet se werklike grootte.  Só het Maria die Here grootgemaak.  “Maak die Here saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef!” (Psalm 34:4).  Haar vreugde was in God, haar Verlosser.  Die outeur se gebruik van ‘háár Verlosser’ maak dit persoonlik en intiem.  Die Katoliekekerk sê dat Maria sondeloos is.  Maar kan dit wees as sy self sê dat God haar Verlosser is?  God is nie die Verlosser van perfekte mense nie, maar van sondaars (Titus 1:3, 2:10, 13, 3:4, Judas 25).

 

Maria prys die Here omdat Hy haar in haar nederige en armsalige toestand raakgesien het.  “Want die HERE is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte.” (Psalm 138:6).  Almal sal die Almagtige en heilige God prys vir die groot dinge wat Hy vir Maria gedoen het.  Tog is sy barmhartigheid nie net oor Maria nie, maar oor elke mens wat Hom vrees – van geslag tot geslag.  Die Skrif sê:  “But I show my love to thousands of generations of those who love me and obey my laws.” (Deuteronomium 5:10, Good News Bible).  Psalm 103:17 sê:  “Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders”.  God verander nie:  van geslag tot geslag is Hy barmhartig oor die wat Hom vrees.  God is ewig:  Hy bestaan van geslag tot geslag.

 

God het sewe dinge gedoen:

 

[1] Hy het sy sterk arm ontbloot (v.51).  Volgens Jesaja 53:1 is die Messias sy sterk arm.

 

[2] Hy het mense se hoogmoedige gedagtes geken en hulle verstrooi (v.51).  “Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel:  al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” (Daniël 4:37).  “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (Jakobus 4:6).

 

[3] Hy het konings van hulle trone afgeruk (v.52).  In Daniël 2 sien ons hoe sy Koninkryk al die koninkryke van die wêreld verpletter.

 

[4] Hy het nederiges verhoog (v.52).  “Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe.” (Psalm 147:6).

 

[5] Hy het honger mense met goeie dinge versadig (v.53).  “Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word.” (6:21).  “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” (Matteus 5:6).

 

[6] Hy het die rykes met leë hande weggestuur (v.53).  “Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.  Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly.” (6:24-25).

 

[7] Hy het sy verbond met Abraham onthou en sy kneg Israel gehelp (v.54-55, cf. v.72-73, Genesis 17).

 

Toe Elisabet 6 maande swanger was het Maria by haar kom bly (v.36, 39).  Sy het vir 3 maande daar gebly, totdat Elisabet se baba gebore is (v.56).  Daarna is sy terug na haar huis toe (v.56).

 

Prys die Here vir sy genade aan ‘n nederige, armsalige ‘niemand’ soos jy.  As jy dink dat jy belangrik is, sal jy nooit sy genade waardeer nie.  Moenie jouself meet aan sondaars wat slegter is as jy nie.  Meet jouself aan God.  Hy is heilig, soewerein, almagtig, alwetend, alomteenwoordig, ewig, liefde, onveranderlik, barmhartig, regverdig, getrou, wys, en nog meer.

 

Weeg jy op?

 

Jy is swak.  Jy raak bewerig as jy ‘n ete mis en sukkel om te funksioneer as jy sleg geslaap het.  ‘n Piepklein virus slaan jou vir ‘n week plat.  Jy kan nie eers ‘n klein beproewing deurmaak sonder om angstig te raak nie.  Jy haat ander wat die lewe vir jou moeilik maak.  Jy kla meer as wat jy dankbaar is.  Jy is sterflik (twee weke ná ek iemand begrawe het was daar omtrent twintig nuwe grafte).  Jy is onheilig in jou gedagtes, woorde, en dade.  Jy is ontrou aan God, die kerk, jou huweliksmaat, jou kinders, en jou werkgewer.  Jy is hoogmoedig.  So kan ek aangaan.

 

Laat ons die Here prys vir Kersfees; dat Hy vir sondaars aarde toe gekom het en in ‘n vuil stal gebore is.  Prys Hom dat Hy aan ‘n kruis gesterf het vir sulke ellendige en armsalige sondaars.  “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Filippense 2:6-8).  “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Romeine 5:8).

 

Amazing love, how can it be

that Thou, my God, shoulds’t die for me?

-Charles Wesley-

 

Ontferm jou dié Kersfees oor hulle wat onverdiend is, want so het God Hom oor jóú (‘n onverdiende sondaar) ontferm.  Hoe gouer jy besef dat jy niks uit God se hand verdien nie, hoe beter.  “Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.” (Galasiërs 6:3).

 

Verbeel jou jy koop vir jou kind ‘n fiets vir Kersfees.  Hoe sal jy voel as sy vir CNA dankie sê vir die geskenkpapier, MAKRO bedank vir die fiets, vir DHL en Volkswagen Caddy dankie sê vir die aflewering, maar vergeet om vir jóú dankie te sê?  Wees dié Kersfees dankbaar vir geskenke, familie, en vriende, maar moenie vergeet om Jesus te dank vir sy Verlossing nie.  Prys die Here vir Kersfees!

[1] Maria was nie, soos die skildery, waardevol oor iets in haar nie.  God het haar waardevol gemáák.