Hoe om te keer dat jou kind rebelleer

Angry toddler

Het iemand al vir jou gesê dat alle jong mense op een of ander stadium rebels raak?  Wanneer jou laerskool kinders nader aan die hoërskool kom, vrees jy dat hulle rebels sal raak.  Maar dit is eenvoudig nie waar dat alle jong mense deur ‘n fase van rebelsheid gaan nie.[1]  Josef het nie.  Dawid het nie.  Jeremia het nie.  Daniël en sy drie vriende het nie.  Die apostel Johannes het nie.  Timoteus het nie.  Titus het nie.  Jesus het nie.

 

Die bg. karakters leer vir ons dat jongmense ‘n diep verhouding met die Here kan hê, en dat hulle hulle lewens volgens die Woord van God rein kan hou (Ps. 119:9, 1Tim. 4:12, 2Tim. 2:22).  God wil hê dat jongmense se ouers hulle hiermee moet help.  Buiten vir die positiewe insette wat ons moet hê, moet ons ook sekere dinge vermy om nie rebelsheid in hulle aan te moedig nie.  Dit is wat Paulus in Ef. 6:4 bedoel:  “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie…”

 

Wat is dan die dinge wat ons moet vermy, om te keer dat ons kinders nie rebels raak nie?[2]

 

[1] Onbetrokkenheid

Willem is geskok dat sy 14-jarige seun skielik hierdie jaar rebels geraak het.  Die waarheid is dat hy al in sy hart gerebelleer het toe hy 9 was, omdat Willem nie in sy lewe betrokke was nie.  Salomo het gesê:  “Soos ‘n voël wat van sy nes af rondvlieg, so is ‘n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe.” (Spr. 27:8).

 

Geld en geskenke kan nie opmaak vir onbetrokkenheid nie.  Wees daar vir jou kinders.  Jou dogter het jou liefde, leiding en beskerming nodig.  Jou seun het ‘n sterk pa nodig wat vir hom sal leer hoe om ‘n man te wees.

 

[2] Te veel dissipline

Is medisyne goed vir ‘n kind?  Net as hy siek is.  Wat sal gebeur as jy jou kind se gewone dieet met medisyne vervang?  Hy sal siek word.  Wat sal gebeur as dissipline jou kind se stapel dieet is?  Hy sal opstandig raak.  Jy kan nie nét jou kind op die medisyne van dissipline grootmaak nie; gee ook vir hom die aartappels, vleis, groente en vrugte (en soms ook roomys) van Bybelse instruksie, omgee, tyd en aandag.

 

[3] Mishandeling

Ek het een berading sessie gehad waarin ‘n pa sy seun met ‘n leer gordel oor die rug geslaan het.  Ek en sy vrou het opgespring om hom te keer.  ‘n Paar maande later het ek uitgevind dat dit al vir jare aangaan.  Vandag is die kind ‘n rebel.  ‘n Pakslae is Bybels; mishandeling nie.  Slaan jou kind op die boude en nie met die vuis nie.  Moet hom nie só slaan dat hy mediese hulp benodig nie.

 

[4] Te min dissipline

Van kleins af het Peter nie sy seun pak gegee nie.  Reeds op 12-jarige ouderdom het sy seun dagga gerook.  Peter was geskok, maar het hom nie gedissiplineer nie.  Toe die seun 19 is, het hy sterker dwelms gebruik en op 22 is hy tronk toe.  Hy het sy pa gehaat, omdat hy hom nie gedissiplineer het en teen die pynlike gevolge van sonde gewaarsku het nie (Gal. 6:7, Heb. 12:10-11).

 

Ouers wat hulle kinders nie dissiplineer nie pluk vir hulleself ‘n lat, omdat sulke kinders dikwels rebels raak (Spr. 23:13-14, 17:25, 29:15, 17).  ‘God many times whips an aged parent by that child that was unwhipped at first.’[3]

 

[5] ‘n Kritiese gees

Michael leer hard en kry ‘n B vir wiskunde.  Sy pa sê nie vir hom geluk nie, maar wil weet hoekom hy nie ‘n A gekry nie.  Moenie alewig fout vind met jou kind nie; jy sal hom moedeloos maak (Kol. 3:21).

 

[6] Afbrekende woorde

Die spreekwoord sê:  ‘Sticks and stones may break my bones, but words can never harm me.’  Almal weet dis nie waar nie, en dat woorde ‘n mens baie seer kan maak.  Moenie vir jou kind sê:  ‘Jou idioot; jy sal ook niks in die lewe bereik nie!  Ek wens jy is nooit gebore nie!’ (vgl. 1Sam. 20:30-34).  Moenie jou kind se gees breek nie (Spr. 12:18, 15:4b).  Bou hom eerder op – selfs wanneer jy hom dissiplineer.

 

[7] Voortrekkery

Verlede jaar toe hoor ek van twee sussies wat bitter is.  ‘Ons het swaargekry omdat pa jóú in ‘n privaat skool gesit het,’ het hulle vir hulle broer gesê.  Ons mag onder geen omstandighede hulle bitterheid regverdig nie, maar ons moet ‘n les daaruit leer.  Onthou jy wat met Josef gebeur het toe sy pa hom voorgetrek het?  Kan jy onthou hoe sy broers gevoel het en wat hulle gedoen het?  Die gevolge was lelik (Gen. 37).  Maak asb. seker dat jy nie witbroodjies en swart skape het nie.

 

[8] Voorwaardelike liefde

Marié se ma sê vir haar:  ‘Pappa is lief vir jou as jy soet is.’  Sy weet dis waar, want wanneer sy stout is praat haar pa vir twee dae nie met haar nie.  God is nie so nie, maar het ons liefgehad toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8).  Volg sy voorbeeld.

 

[9] Kloning

Was jy al ooit by ‘n sport byeenkoms waar ‘n ouer sy humeur verloor het, omdat sy kind nie gewen het nie?  Hoekom doen hy dit?  Is dit nie omdat hy wil hê dat sy kind soos hý moet wees nie?  ‘Toe ék op skool was het ek vir die eerste span gespeel en provinsiale kleure gekry,’ sê Adriaan se pa vir hom.  Hy druk sy seun om ‘n goeie sportman te wees, omdat hy deur sy seun wil goed lyk.

 

[10] ‘n Slegte huwelik

Markus breek sy vrou af en baklei voor die kinders met haar.  Die kinders is bitter en kan nie wag om eendag uit te trek nie.  Hulle hou nie daarvan om by die huis te wees nie.  Hulle sit die hele middag in die kamer, en wens om by hulle vriende se huise te wees.  Hulle kry skaam om vriende oor te nooi.

 

[11] ‘n Ongelyke juk

Riana volg haar eie kop en trou met ‘n ongelowige.  Vandag wil haar kinders niks met die Here te doen hê nie.  As jy met ‘n ongelowige trou is die kanse goed dat jou kinders rebels sal raak en nie die Here sal dien nie.  Dit is hoekom Mal. 2:15 sê ons moet met gelowiges trou (lees gerus die konteks):  “Hy het ‘n geslag van God gesoek.”  Die ESV praat van ‘godly offspring’.   As jy wil hê jou kinders moet rebels raak, trou met ‘n ongelowige.

 

[12] Skynheiligheid

Marcia se pa sê vir haar om eerlik te wees, maar hý is nie.  John Bunyan het gesê:  ‘Many children learn that wickedness of their parents for which they beat and chastise them.’[4]  As jy skynheilig is, kan ek jou amper waarborg dat jou kinders opstandig sal raak.

 

[13] Doofheid

Ek kan partykeer so besig raak, dat ek nie eers hoor as my kinders met my praat nie.  In een berading kursus het ek iets geleer wat ek probeer toepas.  As my kinders na my lessenaar toe kom, sê ek:  ‘Wag net gou.’  Ek maak klaar waarmee ek besig is, draai na die kind toe, en luister na wat hy of sy vir my wil sê.

 

[14] Tergery

Het jy al ‘n ma met drie kinders hoor sê dat sy eintlik vier kinders het?  Sy praat van haar man, omdat pa’s soms soos kinders aangaan.  Simon terg sy dogter en weet nie wanneer om op te hou nie.  As sy kwaad raak gee hy haar pak omdat sy hom nie respekteer nie.  Dit maak haar moedeloos.

 

[15] Te veel werk

Toe Ruan klein was moes hy op Saterdae van vroeg tot laat op die plaas werk, terwyl sy maatjies buite gespeel het.  Hy het die plaas gehaat en wou net wegkom.  Oor die afgelope 15 jaar was hy nog nie weer daar nie.

 

[16] Perfeksionisme

As 5-jarige Klara haar bed nie soos ‘n grootmens s’n opmaak nie, kry sy pak.  Fanie se maatjies het vir hom karretjies gegee vir sy verjaarsdag.  Dit staan op ‘n rak in sy kamer.  Hy mag nie daarmee speel nie, omdat hy die kamer sal omkrap.

 

[17] Wettisisme

Trevor gee vir sy kinders ‘n verkeerde idee van God en van hoe hulle Hom tevrede moet stel.  As hulle nie hulle groente klaar eet nie, sê hy:  ‘Jy maak die Here se hart seer.’  In húlle gedagtes moet hulle ‘n klomp reëls nakom om God se guns te wen.

 

Hulle verstaan nie dat Jesus namens ons die wet perfek onderhou het, dat Hy vir ons sonde aan die kruis gesterf het, dat Hy uit die dood opgestaan het sodat ons kan lewe, en dat elkeen wat in Hom glo die Heilige Gees ontvang om hulle te help om reg te lewe nie.  Gevolglik raak hulle opstandig, omdat hulle dit nie regkry om al die reëls te hou nie.

 

[18] Onduidelikheid

Kobus kry soms pak sonder dat hy weet hoekom.  Hy weet nie wat hy verkeerd gedoen het nie.  As hy vir sy pa wil verduidelik wat gebeur het, dan sê hy:  ‘Ek wil níks hoor nie; buk!’  Dink jy Kobus sal moedeloos, bitter en opstandig raak?

 

Iemand wat die bg. 18 punte reg doen, kan nie daardeur waarborg dat sy kind glad nie rebels sal wees nie.  Ek weet dat sommige mense Spr. 22:6 sal aanhaal:  “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”  Onthou egter dat Spreuke dikwels vir ons wys hoe dinge oor die algemeen werk.  Dit beteken nie dat daar geen uitsonderings is nie.

 

God voed sý kinders reg op, en tog rebelleer ons partykeer teen Hom (Jes. 1:2, Jer. 2:30).  Deur die geskiedenis was daar gelowiges wat hulle kinders reg geleer het, en tog het hulle kinders rebels geraak.  Daar was ook al ouers wat ‘n gemors gemaak het, en dan raak hulle kinders nié rebels nie.  Die algemene reël is egter dat ‘n getroue toepassing van Ef. 6:4 rebelsheid sal voorkom.

 

[19] Hoop vir ouers met rebelse kinders

Ek het ‘n storie gelees van ‘n man wie se seun so erg gerebelleer het, dat hy vir 20 jaar van die kerk afvallig geraak het.  Dit het gebeur nadat sy pa ‘n ernstige verhouding met die Here gehad het, en ook sy kinders van die Here geleer het.

 

Dalk het so iets met jou gebeur.  Jy het jou kinders reg grootgemaak en vir hulle ‘n voorbeeld gestel, en tog het hulle rebels geraak.  Indien dít die geval is, hoef jy jouself nie te kasty nie.

 

In Eseg. 18:20 lees ons:  “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.”

 

Dalk het jy bygedra tot jou kind se rebelsheid.  Wat moet jy doen?

 

  • Onthou dat jou situasie nie hopeloos is nie. Die Here kan jou vergewe.  Bely jou sonde en vra Hom om jou te vergewe.
  • Vra ook vir jou kinders om jou te vergewe. As hulle jou nie wil vergewe nie, kan jy jou hande in onskuld was (Rom. 12:18).
  • Bid vir hulle en doen moeite om na hulle toe uit te reik. “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rom. 12:21).
  • Onthou dat die Here ook hiérdie situasie vir die goeie kan uitwerk (Rom. 8:28).
  • Vra volwasse gelowiges vir raad (Spr. 15:22).
  • Aanvaar die feit dat jou kind waarskynlik nie gered is nie. Moenie dink hy is gered omdat hy die sondaarsgebed gebid het toe hy vier was nie.  As jy dít dink, sal jy nie die regte medisyne gee nie, nl. om vir sy redding te bid en die evangelie met hom te deel.
  • Pasop om nie altyd oor die rebelse kind te praat, sodat jy die ander kinders afskeep nie.
  • Onthou dat God die rebel se hart kan verander (Luk. 15).
  • Moenie opgee as dit vir jou lyk of daar niks gebeur nie; volhard.

 

Het jou ouers miskien dinge gedoen wat jou tot rebelsheid versoek het?  As jy bitter voel moet jy dit bely en vir die Here vra om dit weg te vat.  Vergewe jou ouers en sê vir hulle dat jy dit met hulle wil uitpraat.  Indien hulle nie daaroor wil praat nie, moet jy dit in gebed vir die Here gee; Hý sal hulle oordeel.  As hulle hulle bekeer, sal Hy hulle vergewe.

 

As jy vandag hierdie dinge hoor en jou nié bekeer, is Jesus se waarskuwing in Matt. 18:6-7 vir jou:  “maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.  Wee die wêreld weens die struikelblokke!  Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom.”

 

[20] Die hoogste doel

Jare gelede het iemand vir my gesê:  ‘You must learn to relax.’  Blykbaar het ek nie my les geleer nie, want laas maand het iemand anders vir my gesê:  ‘Hoor hier, moenie die bediening so ernstig opneem nie.’

 

Nou moet ek dit vir jóú sê.  Jy kan vandag baie moedeloos hier uitstap en dink dat jy dit nooit gaan regkry nie.  Ontspan en vertrou die Here.  Moet dit nie jou hoogste doel maak om te keer dat jou kinders rebels raak nie.  Sorg eenvoudig dat jy as ‘n gelowige groei, dat jy in ‘n verhouding met die Here lewe, en dat jy Hom verheerlik.  Dít moet jou hoogste doel wees.

 

Verlede jaar was ek by ‘n diens waarin ‘n vrou met trane vir die gemeente gevra het om vir haar rebelse kind te bid.  ‘n Paar weke gelede het iemand by ons kerk se Bybelstudie gevra dat ons vir die jongmense in die gemeente moet bid.  Die punt is dat ons die ouers in ons gemeente moet ondersteun.  Hulle het ‘n groot taak.  Moenie vergeet om vir mekaar en vir ons kinders te bid nie.

 

[1] Ek weet dat alle mense van nature teen God rebelleer, maar dit is nie wat ek bedoel nie.  Ek praat hier van die rebelse ‘tiener fase’ soos mense dit noem.  Ek praat van die fase waarin jong mense nie vir hulle ouers wil luister nie, maar losbandig lewe.

[2] Party van die dinge het ek in Wayne Mack se boek, Strengthening Your Marriage geleer.  My doel in hierdie preek is om te wys hoe ons rebelsheid in ons kinders kan keer, en nie hoe ons dit moet oplos waar dit reeds bestaan nie.  As jy hulp soek met rebelse kinders, kan ek Wayne Mack se klasnotas vir jou aanstuur.

[3] Jeff Pollard & Scott T. Brown: red., A Theology of the Family, p.139

[4] Ibid., p.293

Advertisements

Hoe moet jy jou kinders tugtig?

Spanking child

Die bure agter ons het eenkeer hulle seuns geslaan tot hulle lê.  Hulle het skaars krag gehad om verder te huil.  Ek het oor die muur gekyk en vir die ma gevra wat aangaan.  Hulle het blykbaar die bure langsaan se fiets gesteel.  Wat hulle gedoen het was verkeerd, maar sy moes hulle nie so erg geslaan het nie.  In Ef. 6:4 leer die Here vir ons hoe ons ons kinders móét dissiplineer.[1]

 

God se tug

Toe ek in Nelspruit gebly het, het ek rondgebel om geborduurde hoede vir die kinders te maak.  Een ongelowige pa was baie ongelukkig dat ek hoede vir sy dogters wou bestel.  Toe ek hom sien het hy my aangevat en aanhoudend vir my gesê:  ‘Dis mý dogters… Hierdie is mý dogters, mý dogters…’  Hy het hulle ook grootgemaak asof hulle sý eiendom is, en nie die Here s’n nie.

 

Ons kinders behoort nie aan ons nie; hulle is vir ons geleen.  As hulle dus sonde doen, moet ons hulle in die Here se tug opvoed (v.4).  Wanneer jy jou kinders tugtig is dit Gód se dissipline wat jy toepas.  As jy nalaat om hulle te dissiplineer, sê jy dat die Here nie omgee as hulle sonde doen nie.  Jy sê dat Hy hulle nie liefhet nie, omdat dit Hom nie pla dat hulle op die verkeerde pad is nie.

 

‘Die tug van die Here’ impliseer verder dat jy jou kind moet tug omdat hy of sy teen die Here gesondig het, en nie omdat jy genoeg gehad het nie.  Die ouer wat dít onthou, sal kalm bly wanneer hy sy kinders moet tugtig.

 

Wat tug nié is nie

Ouers is sondaars, en daarom het elkeen van ons al ons kinders op verkeerde maniere getug.  Ek onthou ‘n man in die Metodistekerk wat vir sy seun gegrom het.  Die seuntjie was so bang dat hy soos ‘n hondjie getjank het.  God wil hê dat jy jou kinders volgens die Bybel moet tugtig.  Moenie jou eie metodes gebruik, of die wêreld s’n volg nie.  Wat is hierdie maniere?

 

[1] Skuldgevoelens

Sommige ouers sit hulle kinders op ‘n ‘guilt trip’ as hulle oortree het.  Moet dit nie doen nie.  Moenie sê:  ‘Ek en jou ma spandeer tienduisende rande om jou in die skool te sit, en dít is die rapport wat jy huis toe bring!’ nie.  Dit laat net die kind skuldig voel, en help hom nie om te verander nie.

 

[2] Vrees

Het jy al ‘n pa gehoor wat sy kind met vrees dreig:  ‘As jy nou wéér jou sussie terg, gaan ek jou doodslaan!’?  Of ‘n ma wat sê:  ‘Wat tot jou pa vanaand by die huis kom mannetjie; hy gaan die velle van jou lyf aftrek!’?  As jy dít doen sal jou kind net luister totdat hy so groot is soos jy, of totdat ‘n pak slae hom nie meer afskrik nie.

 

[3] Manipulasie

Dit gebeur wanneer Maretha se dogtertjie ‘n tantrum in die winkel gooi en sy vir haar sê:  ‘As jy soet is sal mamma vir jou ‘n sweetie koop.’  Ander ouers koop hulle kinders om met geld en geskenke.  Natuurlik sal die kind soet wees om iets te kry, en nie a.g.v. die rede wat Paulus in Ef. 6:1 gee nie:  “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.”  As jy niks het om vir jou kind te gee nie, sal hy nie luister nie.

 

[4] Die tronk

Baie ouers sluit hulle kinders vir ‘n dag in die kamer toe, omdat dit te veel moeite is om die saak ordentlik uit te praat en met ‘n pak slae af te handel.  Maar nêrens sê die Bybel dat jy hulle in ‘n vertrek moet toesluit nie.  Buitendien pas hierdie straf nie by die oortreding nie; jy rek die dissipline onnodiglik uit.  Jy wys ook nie vir die kind wat verkeerd is, en hoe om dit reg te stel nie.

 

Jou en die kind se verhouding is vir ‘n hele dag verbreek.  ‘n Pak slae sou beter gewees het, omdat die verhouding dadelik herstel word (dit is, as jy dit reg doen).  As jy die kind kamer toe stuur, sal hy iets kry om homself besig mee te hou, en is die dissipline oneffektief.

 

[5] Die prokureur

Kom ek illustreer dit met ‘n situasie wat ek eenkeer gesien het.

 

Pa:  Jy is uit; gee asb. die krieket kolf vir so-en-so.

Seun:  Nee, maar ek het per ongeluk die bal mis geslaan.

Pa:  Nee, jy het nie; jy is uit.

Seun:  Nee, die kolf het skeef gedraai en toe slaan ek die bal mis.

Pa:  Nee, jy kan net-nou weer ‘n beurt kry.

Seun:  Nee, elkeen kry twee beurte.

 

So dit aangehou.  Moenie toelaat dat jou kinders met jou redeneer nie.  As hulle met jou redeneer onderwerp hulle hulle nie aan die gesag wat God oor hulle gestel het nie.

 

[6] ‘Ek tel tot tien!’ 

Ted Tripp sê tereg dat vertraagde gehoorsaamheid ongehoorsaamheid is.  As jou kind eers terugpraat, verskonings uitdink of doen wat hý wil voordat hy jou opdragte uitvoer, leer hy om gehoorsaam te wees hoe en wanneer hý wil, en nie omdat jý so sê nie.  Hy wil nie ‘n baas oor hom hê nie, maar wil sy eie baas wees.

 

Jy moet leer om een keer te praat, en die tweede keer pak te gee.  Dit is nie nodig om vyf keer vir jou kind te sê jy gaan hom pak gee nie (en dit dan in elk geval nie doen nie).  As jy een keer praat en die tweede keer pak gee, bly jy in beheer van jouself en verloor jy nie jou humeur nie.  Die kind weet ook waar hy met jou staan, en leer dat hy dadelik gehoorsaam moet wees.

 

[7] Die verkleurmannetjie

Party ouers se reëls is soos ‘n verkleurmannetjie wat elke nou en dan anders lyk.  Sarie het gister pak gekry toe sy met haar ma terugpraat, maar word vandag oorgesien.  ‘Is dit nou verkeerd of nie?’ wonder sy.  Wees asb. konsekwent en konstant.  As jy haar vandag hiervoor pak gee, moet jy dit môre ook doen.

 

[8] Die ‘sonde’ van kindwees

Het jy al ooit ‘n ouer gesien wat sy kind slaan omdat sy per ongeluk ‘n glas melk omgestamp het?  Slaan jou kind vir sonde, en nie omdat sy ‘n kind is nie.

 

[9] Mishandeling

Jy het geen reg om jou kind met die vuis te slaan, of om hom só erg pak te gee dat hy in die hospitaal beland nie.  ‘n Ouer wat dít doen moet in die tronk beland.

 

[10] Geskreeu

Moenie van die kombuis af op jou kinders skreeu, omdat jy te moeg is of nie lus is om hulle te dissiplineer nie.  Bybelse dissipline vat tyd, maar as jy dit nóú reg doen sal jy jouself in toekoms baie tyd, trane en wakker nagte spaar.

 

Die korrekte metode van tug

Ek ken ‘n ma wat nie in pak slae glo nie.  As haar man die kinders wou pak gee, het sy hom gekeer.  Haar jongste seun het al rebels geraak toe hy in die laerskool was.  As sy God se metode gevolg het, is die kanse goed dat haar kind vandag op die regte pad was.

 

God se metode is om jou kind pak te gee as hy of sy teen jou gesag rebelleer.  In die wêreld verwerp baie ouers hierdie metode, maar die Bybel leer duidelik dat ‘n pak slae wat deur liefde gemotiveer word, die kind bevoordeel soos wat ‘n operasiemes die pasiënt bevoordeel (Spr. 22:15, 23:13-14).  Om net te praat help nie; die kind moet fisiese pyn met die oortreding assosieer, sodat hy dit nie weer doen nie (Spr. 29:15, 17, 19).

 

Maar om nét die kind pak te gee help ook nie.  Jy moet met hom praat en vir hom die regte pad leer (Spr. 29:15).  Vat die kind eenkant en praat oor wat gebeur het.  Ek stem saam met Ted Tripp dat dissipline nie ‘n toeskouer sport is om jou kind in die verleentheid te stel nie.  Praat met sagmoedigheid, en beheer jouself wanneer jy dissipline toepas.  Raak eers stil voor die Here of vra vir die ander ouer om dit te hanteer as jy te kwaad is; vra vir vergifnis as jy jou humeur verloor het.

 

Ek het die volgende vrae by Paul Tripp geleer.  Dit sal jou help om by die hart van die probleem uit te kom (Spr. 20:5).

 

  • Wat het gebeur?
  • Wat het jy gedink en gevoel toe jou boetie die speelding by jou gevat het?
  • Wat het jy toe gedoen?
  • Hoekom het jy dit gedoen – wat wou jy gehad het?
  • Wat gaan nou gebeur?

 

So leer die kind dat sy dade die gevolg van sy sondige emosies, begeertes en gedagtes is.  Hy leer dat die probleem dieper is as sy dade, en dat hy nie sy eie hart kan verander nie.  Hy leer ook dat sy sonde negatiewe gevolge het.  As hy dinge op hierdie manier leer, dryf dit hom na Jesus toe.

 

Wanneer jy jou kind tugtig, moet jy ‘n straf gee wat by die oortreding pas.  Sê vir hom hoeveel houe jy gaan gee, sodat jy in beheer van jouself kan bly.  Een hou is genoeg vir kleintjies.  As die kind ouer is kan jy een of twee houe gee, en drie of vier vir ernstige oortredings.

 

Wanneer jy die kind pak gee, moet hy die pyn voel.  Doeke en rompe moenie in die pad kom nie.  As die kind ouer is moet jy nie sy broek aftrek, sodat hy skaam voel nie.  Waarsku ook die kind om nie rond te wikkel of sy hande in die pad te kry nie.  ‘n Kind wat dít doen onderwerp hom nie aan die ouer nie, en moet ‘n ekstra hou kry.

 

Na jy die kind geslaan het, moet jy toelaat dat hy klaar huil.  Verseker hom van jou liefde.  As hy jou nie naby hom soek nie, het die pakslae nie gewerk nie en moet jy vir hom sê dat jy hom weer moet tugtig.  As hy berou het, kan jy saam met hom bid en die evangelie met hom deel.  Sê vir hom dat Jesus aan die kruis gesterf het om ons sondige rekord en harte skoon te was.  Sê vir hom dat Jesus hom sal red as hy sy sonde haat, hom daarvan bekeer en in Jesus glo.  Moet hom egter nie druk om die sondaarsgebed te bid, en dan vir hom sê dat hy nou gered is nie.  Gee wel vir hom ‘n kans om sy sonde te bely.  Leer hom ook om vergifnis te vra waar hy teen sy boeties, sussies, ouers of ander mense gesondig het.

 

Wie moet die dissipline toepas?  Volgens v.4 is dit hoofsaaklik die pa se rol.  Hy moenie op die bank sit en TV kyk, terwyl sy kinders die huis afbreek en vir hulle ma ‘n moeilike tyd gee nie.  Hy moet hulle in orde hou en nie vir sy vrou sê:  ‘Dissiplineer jý hulle!’ nie.  As hy nie by die huis is nie, moet sy vrou hulle dissiplineer.

 

Wat van oupas, oumas, ooms, tannies, die kerk en ander mense wanneer dit by die dissipline van jou kinders kom?  Pakslae moet in die konteks van liefde geskied.  Die persoon wat vir hulle kosmaak, medisyne gee, met hulle speel, by hulle aktiwiteite is, hulle van Jesus leer, hulle bederf, vir hulle drukkies gee, hulle in die bed sit, hulle met hulle huiswerk help, ens., moet ook vir hulle pak gee.  Enigiemand moenie jou kind pak gee nie.  Besluit wie die persone is wat in sy lewe betrokke is, en gee vir húlle toestemming om jou kind te tugtig as jy nie daar is nie.

 

Oupas, oumas en ander volwassenes moet asb. daarop let om nie die ouers teë te gaan as hulle die kind wil pak gee nie.   Moenie God se Woord en sy metodes opponeer nie.  As die ouers dit nie reg doen nie, kan jy eenkant met hulle praat en hulle op ‘n mooi manier reghelp, net soos wat Priscilla en Aquila Apollos oor iets anders reggehelp het (Hand. 18:26).

 

Sommige ouers sê dat pak slae nie vir húlle kind werk nie.  Ted Tripp gee vier redes hoekom pak slae in sommige gevalle nie ‘werk’ nie.  Op ‘n ander plek in die boek gee hy ‘n vyfde rede.

 

  1. Die ouer verloor sy humeur wanneer hy hulle slaan. Dit maak dat die kind bitter raak en hom uit vrees onderwerp.  Wanneer hy ouer raak en nie meer bang is nie, raak hy rebels.

 

  1. Die ouer is nie konsekwent nie. Gevolglik kyk die kind altyd hoe ver hy kan gaan.

 

  1. Die ouer volhard nie. Hy probeer vir twee weke of ‘n maand om sy kinders reg te tugtig, en gee dan op.  Hy vergeet dat kinders nie binne ‘n maand of eers ‘n jaar verander nie.

 

  1. Die ouers slaan nie hard genoeg nie. Die kind voel nie die pyn nie, en om hierdie rede werk die pak slae nie.  Toe ons oudste dogter klein was het dit met ons gebeur.  Ons was moedeloos, omdat die pak slae net nie vir haar ‘gewerk’ het nie.  Ek het met ‘n ouer predikant gaan praat.  Hy het vir my gesê om haar harder te slaan.  Die probleem is binne twee dae opgelos.

 

  1. Die kind is te oud. As jy vir ‘n driejarige pak gee, kan jy nog ‘n indruk op hom maak.  As jy dit egter nagelaat het en hom op sestien wil pak gee, sal dit hom nie afskrik nie.  As jy wil weet hoe jy jou tieners moet opvoed, sal ek Age of Opportunity van Paul Tripp aanbeveel.

 

Ouers wat nalaat of weier om hulle kinders met ‘n Bybelse pak slae en instruksie te tugtig, haat hulle kinders.  Salomo sê:  “want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ‘n vader die seun in wie hy behae het.” (Spr. 3:12).  “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” (Spr. 13:24).

 

Selfdissipline

Toe ek in 1998 my teologiese studies begin het, was ons vier eerstejaars.  Drie van ons het vars uit matriek uitgekom, en een het eers vir twee jaar weermag toe gegaan en daarna vir vier jaar gewerk.  Daar was ‘n duidelike verskil tussen hom en die res van ons.  Die weermag het vir hom selfdissipline geleer.

 

Moenie net jou kinders deur tugtiging dissiplineer nie, maar leer vir hulle selfdissipline.  Dit beteken dat jy nie alles vir hulle moet doen nie.  Moenie hulle kouse en onderklere van die vloer af optel nie.  Moenie altyd hulle beddens opmaak nie, maar leer hulle om dit self te doen.

 

Jy kan nie jou 5-jarige so hard soos jy laat werk nie, maar gee vir hom werkies, sodat hy dissipline kan leer.  Leer ook jou kinders om dissipline te hê in hulle skoolwerk.  Hulle moet hulle huiswerk deeglik, volledig en netjies doen.  Sport is ook goed, omdat dit vir hulle dissipline leer.  Help hulle egter om nie ‘n afgod daarvan te maak nie.  Spansport is goed, omdat dit vir hulle spanwerk leer.

 

As jou kinders ouer is, kan jy vir hulle sê om ‘n vakansiewerk te kry.  Dit sal help as jy dit nie vír hulle reël nie, maar as hulle self moet soek.  Dit sal vir hulle nederigheid leer.  Werk sal ook vir hulle karakter, geduld, opoffering, lojaliteit, selfdissipline, verantwoordelikheid, menseverhoudings, ens. leer.

 

Dit is dan my storie vir vandag.  Jou kinders sal dit nie in die grootmens wêreld maak as jy hulle nie op God se manier dissiplineer nie.  Hulle mag dalk ryk word en in die wêreld se oë suksesvol wees, maar as die Here hulle nie genadig is nie, sal hulle volwasse brats wees.  Hulle sal verhoudingsprobleme hê, omdat alles volgens húlle wil moet gebeur.

 

Hulle sal wees soos iemand wat ek geken het.  In sý oë was hy fantasties, maar volgens die mense wat hom geken het was hy ‘n pyn en ‘n boelie.  Moet asb. nie jou kinders so opvoed dat dít hulle voorland is nie, “maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Ef. 6:4).

 

[1] Oor die jare het ek baie uit Ted en Paul Tripp se boeke en DVD’s geleer.  Ted Tripp se boek, Shepherding a Child’s Heart is baie goed.  Paul Tripp se DVD reeks, Getting to the Heart of Parenting is net so goed.  Ek het die dinge wat ek hierin geleer het, in my eie ouerskap geïmplementeer.  Dit is al so deel van my, dat ek nie spesifieke bladsy nommers gaan aanhaal nie.

Wie moet jou kinders opvoed?

Father and son

George-en-Elna-gemiddelde-Christen voed nie self hulle kinders op nie:  in die oggend doen die skool dit, in die middag die bediende of die na-skool, en in die aand die TV.  Op Vrydae doen die sielkundige en die jeugleier dit, en op Sondae kry die Sondagskool juffrou háár beurt.  Tussendeur voed (voeter?) die kinders se selfone en tablette hulle op.

 

Volgens Paulus in v.4 moet pa’s hulle kinders opvoed.  In v.1-2 sien ons dat hy ma’s insluit.  In v.4 fokus hy egter op die pa, omdat hy die hoof van die huis is (5:23, Gen. 18:19, 1Tim. 3:4-5, 12).  Hy praat ook met pa’s, omdat hulle dikwels onbetrokke en passief is.  ‘Dit hoort nie so nie,’ is wat Paulus in v.4 sê.

 

Moenie so besig wees dat iemand anders of jou vrou alleen die kinders moet opvoed nie.  Net soos ons nie die ma se rol kan vervang nie, kan ons ook nie die pa s’n vervang nie.  Kinders benodig ‘n sterk leier om vir hulle te sorg, hulle geestelik te lei, en hulle teen die verkeerde invloede van vriende, verhoudings, vermaak, die internet, sosiale media, boelies, hulle eie sonde, vals lering, ens. te beskerm.  As die pa die Here liefhet en sy gesin volgens die Bybel lei, is die kanse goed dat hulle in sy voetspore sal volg (Jos. 24:15, Spr. 22:6, Joh. 4:53, Hand. 1:14, 16:31-34, 18:8, Rom. 16:10-11, 1Kor. 7:14).

 

Alhoewel die pa primêr vir sy kinders se welstand verantwoordelik is, is die ma medeverantwoordelik (Spr. 1:8).  ‘n Ma wat haar kinders vir die Here opvoed, kan ‘n reuse invloed op hulle, en sodoende die samelewing hê (1Sam. 1, Spr. 31:1, 2-9, 1Tim. 2:15).

 

Maar wat as een of beide ouers nie die Here dien nie?  In sulke gevalle moet gelowige oupas en oumas, ooms en tannies help (Hand. 16:1, 2Tim. 1:5, 3:15).  Praat met hulle oor die Here as jy die geleentheid het.  Stel vir hulle ‘n goeie voorbeeld, skryf briewe, bel hulle, stuur vir hulle ‘n Whatsapp, nooi hulle saam kerk toe, bid vir hulle.  Dit is nie genoeg om te hoop dat die Here hulle sal red nie – doen iets.

 

Ander gelowiges kan ook betrokke raak.  Omdat Timoteus se pa nie ‘n gelowige was nie, het Paulus hom as ‘n seun in die geloof aangeneem (Hand. 16:1, 1Tim. 1:2, 2Tim. 1:2).  Hy het dieselfde met Titus gedoen (Tit. 1:4).  Wyle dr. Martin Holdt het dit met sy bure se dogters gedoen en hulle kerk toe genooi.  Onder sy invloed het hulle tot bekering gekom.  Is daar ‘n kind wat jý vir die Here kan beïnvloed?

Die gat in ons opvoeding

Family Worship

Daar is ‘n predikant in Johannesburg vir wie ek die wêreld se respek het.  En tog het hy voete van klei soos die res van ons.  Oor huisgodsdiens het hy vir my gesê:  ‘It is a cultural monkey we need to get off our backs.’  Ps. 78:1-8 stem nie met hom saam nie, maar dink dat huisgodsdiens baie belangrik is.

 

Hoe moet jy jou kinders leer? (v.1-5)

M.b.t. huisgodsdiens en die huwelik, het ‘n vriend van my in Limpopo my baie beïnvloed.  Van die dinge wat ons oor die jare in ons huisgodsdiens gedoen het, het ek by hom geleer.  A.g.v. hulle ouerskap en huisgodsdiens, vra hulle vyfjarige uit die bloute vir kuiergaste:  ‘Can I get you something?’  Volgens Ps. 78 is die invloed wat ‘n ouer op sy of haar kinders het, veel groter as wat ons besef.

 

Asaf het hierdie Psalm en elf ander geskryf (v.1, Pss. 50, 73-83).  Hy was ‘n musikant wat in Dawid se tyd die koor gelei het (1Kron. 15:16-17, 19, 16:4-5, 7).  Hy het hierdie Psalm geskryf om vir sy lesers lesse uit Israel se geskiedenis te leer (v.1).  Hy het musiek gebruik [Heb. maskîyl], sodat hulle dit makliker kon onthou (v.1).

 

Omdat die mens nog steeds so leer, is dit belangrik dat jy God se Woord vir jou kinders sing.  Leer vir hulle Bybelverse in sang.  Vermy maar die meeste kinderliede, omdat dit oppervlakkig is en nie ‘n hoë siening van God kweek nie.  Leer eerder vir hulle liede wat diep waarhede bevat, en sê vir hulle wat die woorde beteken.

 

Israel moes hulle ore vir Asaf se onderrig gespits het (v.1, kontra Hand. 7:51).  Ons moet dit ook doen, sodat ons ons kinders reg kan leer.  Ons moet ‘n hoë siening van die Bybel hê en glo dat dit nie die opinies van mense is nie, maar die Woord van God (v.1, 1Tess. 2:13, 2Tim. 3:16, 2Pet. 1:20-21).  Ons moet dit gereeld inneem en toepas.  Ons ore moet oop wees vir die Woord, en ons kinders s’n ook.  Hoe kan jy dit regkry?

 

  • Moenie toelaat dat jou kinders gereeld huisgodsdiens mis, omdat hulle moet leer, by vriende is, uitgaan of skool aktiwiteite het nie.
  • Sorg ook dat jý dit nie mis, omdat jy altyd by die werk is nie.
  • Moet dit nie te laat in die aand doen wanneer almal moeg is nie.
  • Moenie toelaat dat jou kinders lê of speel terwyl jy met die Bybel besig is nie. Hulle moet regop sit en nie die res se aandag aftrek nie.
  • Vat jou kinders gereeld kerk toe. Moet hulle nie alleen stuur, omdat jy op Sondae jou eie ding doen nie.  Onthou dat dit die Here se dag is.  Doen jou werk, inkopies, sport, partytjies, wasgoed, ens. in die week of op ‘n Saterdag.  Moenie toelaat dat hierdie dinge jou van die Woord af weghou nie.
  • Probeer om die Woord in te neem wanneer jy dit op ‘n Sondag hoor. Rus genoeg op Saterdae, sodat jy nie op Sondae tydens die diens slaap nie.
  • Maak vooraf jou hart stil, sodat jy nie gedurende die preek aan die week se probleme dink nie. Pasop vir die duiwel wat jou aandag wil aftrek.
  • Bely en laat staan jou sonde, sodat dit jou nie doof maak vir die Woord nie.
  • Dissiplineer jouself om stil te sit en te luister. Moenie rondloop tydens die preek nie.

 

Die bg. dinge help nie as jy ongered is nie (1Kor. 2:14).  Jy moet eers deur geloof deel van God se volk wees (v.1, 1Pet. 2:9-10).  Die Heilige Gees moet jou dowe ore oopmaak om te verstaan dat jy a.g.v. jou selfsug en sonde ‘n terroris in God se Koninkryk is.  Ek hoef nie vir jou te sê wat God met terroriste doen nie.

 

En tog is jou toestand nie hopeloos nie.  God kan jou uit die straf kamp van jou sonde bevry.  Gebruik die sleutels van geloof en bekering om uit te kom.  Wees dankbaar dat Jesus namens jou in die straf kamp gesterf het.  Wees ook dankbaar dat Hy uit die dood uit opgestaan het, en dat jy saam met Hom in sy Koninkryk van liefde kan lewe en met oop ore die pragtige musiek van die Woord kan geniet.

 

As jy gered is, moet jy hierdie evangelie met die volgende geslag deel.  Hoe moet jy dit doen?  Gebruik gelykenisse, stories, beelde en illustrasies, sodat hulle as’t ware die waarheid in hulle verbeeldings kan sien (v.2, Matt. 13:34-35).  Jy hoef nie eers illustrasies uit te dink nie; die Bybel is vol daarvan.

 

As jy bv. geloof wil verduidelik, kan jy vir hulle vertel hoe ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke wegsteek, sodat die valk hulle nie kan vang nie.  As ons in Jesus glo, is ons veilig onder sy vlerke, en kan die valk van sy toorn ons nie vang nie.  Jesus het reeds aan die kruis die straf gedra wat ons verdien.

 

Om God se verlossing verder te verduidelik, kan jy vir hulle vertel dat ons soos stoute kinders is wat van die huis af wegloop en ons ouers se geld mors.  Bekering is soos ‘n rebelse kind wat alles verloor, tussen die varke beland, tot sy sinne kom, berou het oor wat hy gedoen het, en na sy huis toe terugkeer.  Vergifnis is soos ‘n pa wat na hierdie rebelse kind toe hardloop, hom omhels en soen, vir hom geskenke gee en ‘n groot partytjie hou.

 

Maar om net illustrasies te gebruik is nie genoeg nie.  Sonder die Heilige Gees bly die evangelie ‘n raaisel uit die verlede, en kan mense dit nie verstaan nie (v.2, Matt. 13:9-17).  Moet dan nie net die Bybel vir jou kinders uitlê nie, maar bid dat die Here hulle harte sal oopmaak, sodat hulle die ou ou tyding kan verstaan (v.2, Jer. 6:16, Hand. 16:14).

 

Herhaling is belangrik.  Israel was nie onbekend met die dinge wat Asaf in hierdie Psalm geskryf het nie.  Hulle het die stories by hulle ouers gehoor en goed geken (v.3, 44:2).  En tog het Asaf hulle daaraan herinner.  Doen dieselfde met jou kinders.  Leer hulle aanhoudend, sodat hulle die Woord kan onthou (2Pet. 1:12-15).

 

Verder moet jy ook die lesse in mense se lewens gebruik om jou kinders te leer (Rom. 15:4, 1Kor. 10:11).  Die lewe van Josef wys bv. hoe God mense se sonde gebruik om sy goeie planne uit te werk.  Maar dit beteken nie dat jy opsetlik moet sondig nie.  Die geskiedenis van Adam en Eva wys dat sonde ernstige gevolge het.  Die storie van Rut wys dat God elke tree van die pad beplan het, al voel dit partykeer of Hy jou verlaat het.  Jesus wat die storm stil maak wys vir ons dat Hy God is, en dat niks vir Hom onmoontlik is nie.

 

Onthou asb. dat God die hoofkarakter in elke storie is, en dat die les altyd oor Hom moet gaan.  As jy jou kinders bv. van Dawid en Goliat vertel, is die punt nie dat God groot potensiaal in onbelangrike mense sien nie, maar dat Hy so sterk is dat Hy ‘n seuntjie met ‘n slingervel kan gebruik om ‘n gewapende reus dood te maak.

 

As jy jou kinders só leer, sal hulle die Here vrees, liefhê en bewonder.  As jy egter ‘n Kinderbybel of VeggieTales DVD met snaakse prentjies in gebruik, sal hulle Hom nie ernstig opneem nie.  Dit sal wees soos ‘n preek wat ek 2012 gehoor het.  Dit het oor die erns van sonde gegaan.  Die prediker se uitleg van Agan se sonde in Jos. 7 was goed, maar hy het soveel humor gebruik dat ‘n mens die idee gekry het sonde is glad nie ernstig nie.  Let op wát jy vir jou kinders leer, maar ook op die manier wat jy dit doen.

 

Asaf sê verder dat ons nie die Woord vir ons kinders moet wegsteek nie, maar dat ons hulle van sy heerlike en kragtige dade moet vertel (v.4).  Daar is ouers wat hierdie dinge vir hulle kinders wegsteek, omdat hulle nie tyd maak vir huisgodsdiens nie, omdat hulle hulle ongereeld kerk toe bring, omdat hulle nie van ‘n persoonlike verhouding met die Here getuig nie (hulle kinders sien nie dat hulle die Bybel lees en bid nie), en omdat hulle onheilige lewens die waarheid verbloem.  Moenie so wees nie, maar bely jou sonde.  Vra die Here se hulp om te doen wat reg is.

 

Om die Bybel vir jou kinders te leer is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag (v.5).  Jy móét dit doen.  Die Bybel is nie net vir jou persoonlike stiltetyd bedoel nie, maar sodat jy jou kinders van die Here kan leer (v.5).  Dit help nie jy deel die evangelie met die nasies, terwyl jou eie kinders oppad hel toe is nie.  Om jou kinders effektief te leer, moet jy die volgende dinge doen:

 

[1] Voor jy jou kinders leer moet jý die Here vrees, glo dat Hy die enigste God is, Hom met alles in jou liefhê, die Bybel ken, in jou hart bêre en gehoorsaam wees (Deut. 6:1-9).  As jy sê maar nie doen nie, sal hulle jou, die Here, of beide verag.

 

[2] Huisgodsdiens gebeur nie vanself nie; jy moet daarvoor beplan.  Hoe laat gaan jy dit hou en wanneer gaan jy begin?  As jy nie beplan nie, sal jou besige program huisgodsdiens eenkant toe skuif sodat dit nie gebeur nie.

 

[3] Leer jou kinders om die Here in die gemeente te dien (1Kor. 16:15).  In die begin kan hulle klein dinge doen, soos om iets vir ou mense aan te dra.  Sorg ook dat jy gereeld ander gelowiges in jou huis het (Heb. 13:2).  Gasvryheid is ‘n goeie manier om diensbaarheid vir jou kinders te leer.

 

[4] Skerp die Woord by hulle in (Deut. 6:7).  Leer hulle elke dag.  Hou dit kort en eenvoudig as die kinders klein is.  ‘n Puritein genaamd Samuel Lee het gesê:  ‘A young plant may be quickly overloaded with manure and rotted with too much watering.’[1]  As jy dus vir ‘n tweejarige die skeppingsverhaal vertel, moet jy nie die hele hoofstuk lees nie.  Sê eerder:  ‘God het alles gemaak:  die son, die maan, die vissies, die voëltjies, die diere.  Heel laaste het hy mense gemaak.  God is baie sterk en goed.’  As jou kinders ouer is, kan jy ‘n paar verse lees en dit uitlê soos wat jy aangaan.

 

Jy kan ook Bybel Vrae en Antwoorde by Augustine Bookroom in Pretoria bestel.  Dit leer hulle op ‘n vraag en antwoord basis oor God, die skepping, die sondeval, verlossing, Jesus, die Tien Gebooie, die doop en die nagmaal, gebed, die dood, die hemel, die hel en meer.

 

Begin as jou kinders ‘n paar maande oud is – jy sal verbaas wees hoe gou hulle leer.  Vra ‘n vraag tot hulle dit ken (‘Wie het jou gemaak? God’), en beweeg dan na die volgende vraag toe.  Hersien die vrae wat hulle ken.  As hulle ouer is, kan jy die antwoorde bespreek:  ‘Is jy deur toeval of evolusie hier?  Nee, God het my oor ‘n tydperk van 9 maande in die baarmoeder gevorm.’

 

Spreuke werk ook vir ouer kinders, aangesien dit geskryf is om vir hulle basiese lewenswysheid te leer (Spr. 1:4, 8, 2:1, 3:1, 4:1, 5:1, 6:1, 7:1, ens.).  Dit sal hulle leer om hard te werk en nie lui te wees nie, die regte vriende te kies, goed te werk met geld, te veel drank te vermy, hulle emosies en hormone te verstaan en te beheer, ens.

 

Karaktertrekke werk ook goed.  Leer bv. vir hulle ‘n maklike definisie van volharding (‘moenie gou opgee nie’), en memoriseer ‘n gepaste Bybelvers:  “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal. 6:9).  As hulle die karaktertrekke goed ken, kan jy dit handig gebruik:  ‘Ek weet jy wil graag in die eerste span wees, maar moenie so gou opgee nie; hou aan om hard te oefen.’

 

Saam met al hierdie dinge moet jy die evangelie met jou kinders deel.  Dit is nie genoeg om hulle van die tien plae of Daniël in die leeukuil te vertel nie.  Te veel ouers neem aan dat hulle kinders gered is, omdat hulle in ‘n Christelike huis grootword, of omdat hulle as babas gedoop is.

 

Jy móét vir jou kinders sê dat hulle nie a.g.v. jóú geloof gered is nie.  Hulle is met ‘n sondige natuur gebore en sondig van kleins af (Ps. 51:7, 58:4).  Omdat die Here heilig is, gaan Hy hulle hiervoor oordeel (Op. 20:12, ‘klein en groot’).  Maar as hulle jammer is oor hulle sonde, dit haat, en in geloof na die Here toe draai, sal Hy hulle red, vergewe en as sy kinders aanneem.

 

[5] Bid saam met jou kinders.  Hou dit kort as hulle klein is.  Jy kan bv. vir ‘n eenjarige sê om agter jou aan te bid:  ‘Sê:  Dankie… Jesus… Amen.’  Jou kinders sal ook uit jóú gebede leer.  Bid daarom met eerbied en respek, sodat hulle kan leer dat die Here groot en heilig is.  Wees vars in jou gebede; moenie elke dag dieselfde ding bid nie (bv. rympies).  Om vars te bly, moet jy self ‘n gebedslewe hê.

 

Waarvoor moet jy bid?  Bid heel eerste vir mekaar en vir die redding van jou kinders se siele.  Moenie die impak van jou gebede onderskat nie.  As jy gereeld en getrou vir jou kinders bid, sal jy ‘n invloed in hulle lewens hê.  Bid ook vir die leraar en die ouderlinge, bekerings, mense in die kerk, sendelinge en siek mense.  Leer hulle om nie vaag te bid nie, maar spesifiek.  ‘Here, help asb. vir Arrie om werk te kry…’ is beter as:  ‘Here, help asb. al die mense in die hospitale en langs die strate…’

 

Gee vir elkeen ‘n beurt om te bid.  Moenie jou kinders se gees demp as hulle gebede onvolmaak is nie.  Jy self bid nie perfek nie.  Wanneer jy jou kinders help om Bybels te bid, moet jy dit in ‘n gees van sagmoedigheid en liefde doen.

 

Bid spesiaal voor die nagmaal.  Gee vir elkeen ‘n kans om sy of haar sonde te bely.  Dalk wil jy nie jou sonde voor jou kinders bely nie, maar eintlik sal dit hulle help om gereeld te hoor dat jy, soos hulle, ‘n sondaar is, en dat jy ook die Here se genade nodig het.

 

[6] Bring jou kinders na die eredienste en Bybelstudies toe (Jos. 8:34-35, Hand. 10:24-33).  Wees opgewonde oor Sondae.  Sê vir hulle:  ‘Dis die Here se Dag!  Ons gaan God se kinders sien, Hom prys en sy Woord hoor!’  Praat na die erediens oor God se Woord en die mense.  ‘Dit was lekker om weer vir tannie Hannie te sien; sy was lank in die hospitaal.’  As jou kinders ouer is, kan jy die preek bespreek.  Moenie van individue, die kerk of die leraar skinder nie.  Jy sal jou kinders negatief maak teen die Here, sy Woord en sy liggaam.

 

[7] Leer jou kinders op ‘n informele vlak.  Met kleintjies werk gelykenisse goed:  ‘God sorg vir die mossies en nog meer vir sy kinders; mense is belangriker as voëltjies.’  Met ouer kinders kan jy in die kar praat oor wat by die skool gebeur het (Deut. 6:7).  Gee vir hulle Bybelse antwoorde oor boelies, kinders wat gespot word, rassisme, kinders wat vloek, rook, drank, seks, watse rol uiterlike voorkoms speel, respek vir onderwysers, huiswerk, evolusie in die handboek, ‘n goeie sportmangees, karakter, ens.  Werk hard om vir hulle ‘n Bybelse wêreldbeskouing te gee.

 

As jy by ‘n advertensie bord verby ry, kan jy hulle leer wat God van uiterlike voorkoms en rykdom dink.  Leer hulle oor ware liefde as hulle in Frozen of Tangled sien hoe ‘n man en vrou mekaar ontmoet, en binne 24 uur verloof raak.  Sê vir hulle dat egskeiding, homoseksualiteit, saambly en aborsie nie God se goedkeuring wegdra nie.

 

[8] Dissiplineer jou kinders (Spr. 22:15, 29:15, Ef. 6:4).  So leer jy hulle die Bybel en help jy hulle om te verstaan dat sonde pynlike gevolge het (Gal. 6:7, Heb. 12:10-11).  Moet hulle nie oordissiplineer nie.  Jy kan nie ‘n kind op medisyne grootmaak nie.  Moet hulle ook nie onderdissiplineer nie.  As jy nalaat om hulle pak te gee, beskadig jy hulle siele en pluk jy vir jouself ‘n lat (Spr. 23:13-14, 17:25, 29:15, 17).  ‘God many times whips an aged parent by that child that was unwhipped at first.’[2]

 

Dalk vrees jy dat al hierdie ‘toewyding’ jou kinders opstandig sal maak en vir hulle ‘n weersin in God, die Bybel en die kerk sal gee.  Dit sal nie.  Hulle sal net opstandig raak as jy skynheilig is, as jy nie dieselfde persoon by die kerk is as by die huis nie.  Hulle sal opstandig raak as jy altyd by die kerk moet wees, maar te besig is om húlle aktiwiteite by te woon.  Hulle sal die Bybel verag as jy dit net gebruik wanneer hulle verkeerd doen:  ‘Die Bybel sê…!’

 

Wie se plig is dit om jou kinders van die Here te leer?  Dit is nie die skool, Sondagskool, jeugleier, sielkundige, bediende, TV of iemand anders se plig nie.  As hoof van die huis is die pa hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik (v.3, 5, Gen. 18:19, Ef. 6:4, 1Tim. 3:4-5, 12).  As die pa die Here liefhet en vir sy gesin die Bybel leer, gebeur dit gewoonlik dat hulle sy voorbeeld volg (Jos. 24:15, Spr. 22:6, Joh. 4:53, Hand. 1:14, 16:31-34, 18:8, Rom. 16:10-11, 1Kor. 7:14).

 

Saam met die pa is die ma mede-verantwoordelik.  Sy moet ook die kinders leer (Spr. 1:8).  As sy pligsgetrou is, kan sy ‘n groot invloed op haar kinders se lewens, en sodoende op die samelewing hê (Spr. 31:1, 2-9, 1Tim. 2:15).

 

Wat as ‘n kind se pa, ma of beide nie die Here dien nie?  In sulke gevalle moet gelowige oupas, oumas, ooms en tannies help (Hand. 16:1, 2Tim. 1:5, 3:15).  Praat met hulle oor die Here as jy die geleentheid het.  Stel vir hulle ‘n goeie voorbeeld, skryf briewe, bel hulle, stuur vir hulle ‘n Whatsapp, nooi hulle saam kerk toe, bid vir hulle.  Dit is nie genoeg om te hoop die Here red hulle nie – doen iets.

 

Die kerk moet ook betrokke raak by die kinders van wie een of beide ouers nie die Here ken nie.  Omdat Timoteus se pa nie ‘n gelowige was nie, het Paulus hom as sy seun in die geloof aangeneem (Hand. 16:1, 1Tim. 1:2, 2Tim. 1:2).  Hy het dieselfde met Titus gedoen (Tit. 1:4).  Wyle dr. Martin Holdt het dit met sy bure se dogters gedoen.  Onder sy invloed het hulle tot bekering gekom.  Is daar ‘n kind wat jý vir die Here kan beïnvloed?

 

Hoekom moet jy jou kinders leer? (v.6-8)

Sammy leer haar kinders, sodat hulle goeie maniere kan hê en mense haar geluk kan wens.  Oliver leer sy kinders, sodat hulle reg sal doen en hom nie in die verleentheid stel nie.  Cornelia leer haar kinders, sodat hulle top atlete, studente en leiers kan wees.  Kenny leer sy kinders, sodat hulle ‘n goeie karakter kan ontwikkel en suksesvol kan wees in die toekoms.  Sonja leer haar kinders, sodat hulle goeie vriendskappe kan bou en eendag gelukkig getroud kan wees.

 

Maar nie een van hierdie redes is goed genoeg nie.  Hoekom móét jy jou kinders leer?  In v.6-8 gee Asaf vir ons die rede:  leer jou kinders, sodat hulle God en sy Woord kan ken en vir húlle kinders kan leer.  As jy dit goed doen, is dit nie net jou kinders wat die Here sal dien nie, maar die geslagte wat kom.

 

‘n Man in ons gemeente het my vertel dat sy vrou se oupa die Here getrou gedien het.  Op sy begrafnis het hulle besef hoe baie van sy kinders en kleinkinders deur sý voorbeeld tot bekering gekom het.  Moenie bang wees dat jou kinders die evangelie sal verwerp nie.  Bid vir hulle, leer die Bybel vir hulle, stel ‘n goeie voorbeeld en los die res vir die Here.

 

As jy nalaat om dit te doen benadeel jy nie net jou kinders nie, maar die geslagte wat kom (v.6-8).  As jý nie hulle gedagtes met die waarheid vul nie, sal die wêreld en haar vals godsdienste dit vul.  Jou kinders sal op hulleself en die wêreld hoop, en nie op die Here nie (v.7).  Hulle sal sy groot werke vergeet en sy Woord ignoreer (v.7).  Hulle sal rebels, hardkoppig en ontrou wees (v.8, Rigt. 2:10-12).

 

Asaf sê vir ons hoekom baie kinders die kerk verlaat wanneer hulle universiteit toe gaan.  Hulle het hulle ouers se lewens dopgehou en gesien dat hulle skynheilige kerkmense is (v.8).  Op ‘n Sondag sing hulle Psalms, maar op ‘n Maandag vloek hulle hulle werkers, veg hulle soos honde in die huis, drink hulle te veel en kyk hulle vuil programme op TV.  In hulle harte het hierdie kinders al die kerk verlaat toe hulle in die laerskool was; dit het eers sigbaar geword toe hulle 18 is.

 

Wil jy hê jou kinders moet hulle hoop in die Here stel, in Hom glo, Hom dien, op Hom vertrou, Hom prys, standvastig en gehoorsaam wees, getrou wees in hulle harte (v.5-8)?  Sorg dan dat jy dit eerste doen en vir hulle die Bybel leer.  Bekeer jou, glo in Jesus Christus en bid dat hulle dieselfde sal doen.  So sal die slegte voorbeeld van party van ons Afrikaanse voorvaders nie na hulle toe deursyfer nie (v.8, 1Pet. 1:18).

 

Moet asb. nie jou kinders aan die duiwel, die wêreld of hulleself oorlaat nie; help hulle.  Wees soos John Paton se pa.  In sy hele lewe het hy nie eenkeer nagelaat om oggend en aand huisgodsdiens te hou nie.  Volgens Paton het nie een van die elf kinders opstandig geraak hieroor nie.  Inteendeel, dit het hulle lewens verander.[3]  Jare later het ‘n hele eiland onder Paton se prediking tot bekering gekom.  Waar het dit begin?  Om ‘n kombuistafel met ‘n oop Bybel.

 

[1] Jeff Pollard & Scott T. Brown: red., A Theology of the Family, p. 138

[2] Ibid., p.139

[3] John Paton: Missionary to the New Hebrides, pp.14-17

Die Tien Gebooie: Hoe om ander lief te hê

Loving neighbour

In The Secrets of Jonathan Sperry praat mnr. Sperry met ‘n paar jong seuns oor die Here.  Een van die jong seuns, Albert, is nie beïndruk nie en sê:  ‘Ja, die Bybel sê alewig:  “Moenie dit doen nie” en “Moenie dat doen nie.”’  Mnr. Sperry se reaksie was:  ‘Ek sien dit nie so nie.  Alles in die Bybel is daar om ons lewens beter te maak.  Die Bybel sê:  “Moenie steel nie.”  Wil jy hê iemand moet by jou steel Mark?  Nee?  Ek reken dan dat dit ‘n goeie ding is.  Die Bybel sê:  “Moenie lieg nie.”  Wil jy hê iemand moet vir jou lieg Albert?  Nee?  Ek reken dan dat dit goeie ding is, of hoe?’  Albert se reaksie was:  ‘Ek het nog nooit só daaroor gedink nie.’

 

Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê (Matteus 7:12).  Dit is presies hoe ons oor die Tien Gebooie in Eksodus 20:12-17 moet dink – as ‘n uitdrukking van liefde vir jou naaste (Romeine 13:9).

 

Die vyfde gebod (v.12)

Eer jou pa en jou ma.  Om jou ouers te eer is om hulle te vrees en te respekteer (Levitikus 19:3).  Dit is ‘n gesindheid wat lei tot dade van gehoorsaamheid.  Omdat dit eerste ‘n gesindheid is, kan ‘n kind gehoorsaam optree, maar rebels wees in sy hart.  Kinders moet daarom selfs met hulle oë, stemtoon, liggaamshouding, en gesindheid respek wys (Spreuke 30:17).  Ek het onlangs gesien hoe ‘n klein kind sy oë gerol het vir sy ma.  Dit was duidelik dat hy haar nie geëer het nie.

 

Natuurlik is dit nie net kleiner kinders wat hulle ouers moet eer nie, maar selfs jong mense wat die huis verlaat het, en volwasse kinders wie se ouers al oud en grys is (Matteus 15:4-6, Efesiërs 6:1-3, Kolossense 3:20).

 

Vir klein kinders is dit belangrik om te weet dat jý die gesag in hulle lewe is.  As hulle jou gesag uitdaag moet jy hulle straf.  Leer vir hulle om uit liefde vir God aan jou gehoorsaam te wees (Efesiërs 6:1, Kolossense 3:20).  Hulle moenie gehoorsaam wees omdat jy hulle laat skuldig voel, hulle intimideer, of omdat hulle ‘n beloning soos lekkers soek nie.  Dit is reg dat jy met jou jong kinders moet speel.  Maar moenie toelaat hulle jou as ‘n maatjie sien of dat hulle jou slaan nie.

 

Tieners en jong mense moet nogsteeds hulle ouers eer.  Hulle het nie die reg om ‘cheeky’ te wees of teen jou gesag te rebeleer nie (Spreuke 30:11).  Dalk het jy altyd fout gevind of was jy te streng, en is jý die oorsaak dat hulle vandag rebels is (Efesiërs 6:4, Kolossense 3:21).  In só ‘n geval moet jy hulle en die Here se vergifnis vra.

 

As jy egter jou kinders reg grootgemaak het, en hulle nogsteeds rebels is, moet jy die regering se hulp vra.  God het polisie en ander staatsinstansies daargestel om sulke sake te hanteer (sien Deuteronomium 21:18-21).  Onthou jy hoe die polisie in die ou dae rebelse tieners met ‘n rottang geslaan het?

 

Volwasse kinders moet ook hulle ouers eer (Jeremia 35, Spreuke 23:22, Matteus 15:4-6, 1 Timoteus 5:3-8).  Jy het nie die reg om lelik te praat met jou bejaarde ma, jou pa by jou huis weg te jaag, jou ouers af te skryf, hulle te vloek, jou ma te slaan nie (21:15, 17, Spreuke 19:26).  Ek weet van ‘n man wat sy bejaarde ouers by sy huis weggejaag het, en het op RSG gehoor hoe ‘n ander inbel en sê:  ‘Ek slaan my ma.’  Al het jou ouers ook Alzheimers moet jy hulle respekteer.  Moenie jou ouers by die tehuis vir bejaardes aflaai en van hulle vergeet nie.  Dawid het vir sy ouers gesorg en Jesus ook (1 Samuel 22:3, Johannes 19:26-27).

 

Ons teks sê dat jy jou vader en jou moeder moet eer.  Jy moet dit veral onthou as jou ouers geskei is en jy by een van hulle bly.

 

Wie is die ouers vir wie jy respek moet hê?  Dié gebod geld nie net vir biologiese ouers nie, maar ook vir stiefouers (Lukas 2:51), aanneemouers, huisouers in die koshuis of weeshuis, peetouers (Ester 2:7, 20), skoonouers (Miga 7:6), grootouers (1 Timoteus 5:3, 8), ou mense in die kerk (Levitikus 19:32, 1 Timoteus 5:1-2), leiers in ons land, kerke, skole, en werkplekke.

 

Onderwerp jou aan die gesag wat oor jou gestel is.  Jy mag nie vir jou stiefpa sê:  ‘Jy is nie my pa nie en kan nie vir my sê wat om te doen nie!’  Moenie toelaat dat jou kind so praat met jou huweliksmaat nie.  As hulle disrespekvol is moet daar gevogle wees (Spreuke 22:15, 29:15).

 

‘n Kollega se tweede vrou het vir sy seun ‘n opdrag gegee.  Hy het gesê:  ‘Jy is nie my ma om vir my te sê wat ek moet doen nie.’  Toe hy ná skool by die huis kom het hy gevra:  ‘Waar is my kos?’  Sy het gesê:  ‘Ek is nie jou ma nie en hoef nie vir jou kos te maak nie.’

 

Eer jou ouers.  Pasop egter dat jy hulle nie meer liefhet as vir God nie.  As jy tussen jou ouers en die Here moet kies, moet jy die Here kies (Lukas 14:26, Handelinge 5:29).

 

Hoekom moet jy jou ouers eer?  ‘n Kind wat nie sy ouers eer nie, sal ook nie vir ander luister nie.  Later in die lewe sal dit lei tot groot probleme.  Respek vir ‘n mens se ouers is die eerste gebod wat te doen het met medemens verhoudings.  Alle ander verhoudings in die samelewing (gebooie 6-9) sal reg wees as ons verhouding met ons ouers (gebod 5) reg is.  ‘n Samelewing vol van korrupsie, misdaad, bedrog is ‘n samelewing waar kinders nie hulle ouers eer nie.

 

As jy jou ouers eer sal jy lank lewe (v.12, Efesiërs 6:3).  Natuurlik is daar uitsonderings op die reël, maar dié belofte geld in die algemeen.  Soms tref die Here rebelse kinders deur bonatuurlike ingrype, maar gewoonlik sterf hulle deur die normale gevolge van hulle optrede.  ‘n Rebelse kind wat nie vir sy ouers luister nie en dronk word, met ‘n kar jaag, dwelms gebruik, rondslaap, slegte vriende het, en roof sal waarskynlik verongeluk, in ‘n geveg betrokke raak en met ‘n mes gesteek word, aan ‘n oordosis van dwelms sterf, VIGS kry, doodgeskiet word, ensovoorts.

 

Die lang lewe praat nie van ‘n lang maar misrabele lewe nie.  Dit verwys na ‘n lewe van vrede en geluk (Deuteronomium 5:16).  As jy help om ‘n samelewing te bou wat omgee vir ou mense sal jy self die vredevolle vrugte pluk as jý eendag oud is.

 

Jy sal ook lank (vir ewig) lewe op die nuwe aarde.  Jesus het ons ongehoorsaamheid (ook ongehoorsaamheid aan ons ouers) op Homself geneem aan die kruis.  Hy het sy aardse ouers en hemelse Vader geëer en onder andere dié geregtigheid op ons rekord geplaas.  Nou verander Hy ons harte, sodat ons ons ouers wíl eer.

 

Die sesde gebod (v.13)

Moenie moord pleeg nie.  Manslag, doodstraf, selfverdediging, oorlog, jag, en bosbou is nie moord nie (22:2, Numeri 35, Genesis 9:6, Romeine 13:4, Deuteronomium 20, Levitikus 24:17-18).  Die Bybelse definisie vir moord is ‘n kwaadwillige en beplande daad waarin jy iemand doodmaak (Numeri 35:20-21).

 

Laasjaar het mense op RSG se Loslip ingebel en gesê dat moord dikwels op die ingewing van die oomblik plaasvind.  Dit is nie heeltemal waar nie.  Die daad mag dalk onverwags plaasvind, maar haat en bitter gedagtes broei al lankal.

 

Ons almal wil iemand uit ons lewens hê.  Om dit reg kry sal jy hulle haat, ignoreer, uitskuif, afskryf, slegsê, beskinder, vloek, uitskel, slaan, bitter of kwaad wees, weier om hulle te vergewe.  Volgens Jesus en Johannes is dit moord (Matteus 5:21-22, 1 Johannes 3:15).

 

‘n Seuntjie het gesukkel om sy reënjas op die hakkie te kry.  Uiteindelik het hy dit reggekry.  ‘n Meisie het gekom en sy reënjas afgehak om hare op te hang.  Hy was woedend.  Sy ma het dit gesien en vir haar seun gesê:  ‘Dink jy dit sal reg wees om die meisie dood te maak?’  ‘Nee,’ het hy gesê.  ‘Wel, volgens die Bybel het jy nou-net moord gepleeg in jou hart,’ het sy ma gesê.

 

Met verwysing na v.13 sê die ESV voetnota:  ‘The Hebrew word [for murder] also covers causing human death through carelessness or negligence.’  Iemand wat dus nalatig is met ander se lewens pleeg ook moord.  ‘n Man wat byvoorbeeld dronk bestuur en kind dood ry is skuldig aan moord.

 

Deesdae heers daar debat oor dié vorme van moord:

 

GENADEDOOD

Genadedood is moord (iemand het baie gepas gepraat van ‘genademoord’).  Aktiewe genadedood gebeur byvoorbeeld as ‘n dr. ‘n pasiënt inspuit sodat hy sterf.  Passiewe genadedood is as die dr. of familie byvoorbeeld die pasiënt van medisyne ontneem wat sy of haar lewe drasties kon verleng.  Beide aktiewe en passiewe genadedood is moord.

 

Om egter toe te laat dat iemand sterf is anders.  As die dr. of familie byvoorbeeld die sterwende persoon se medikasie wegvat, sodat die sterwensproses nie onnodiglik uitgerek word nie, is dit nie moord nie.  Sodra die medikasie verwyder word, sterf die persoon binne ‘n kort tyd daarna.

 

‘n Man het vir my vertel dat hulle dit met sy skoonpa gedoen het.  In ‘n ander geval het hy sy kind se masjiene laat afskakel.  Persoonlik dink ek dat die eerste geval reg was, maar dat die tweede geval passiewe genadedood was.

 

Ons moet onthou dat verligting van pyn nie ons grootste doel is nie.  Ons hoogste doel is om, ten spyte van ons pyn, die Here te verheerlik.

 

SELFMOORD

Geen moordenaar het die ewige lewe in hom nie (1 Johannes 3:15).  Die meeste mense wat dan selfmoord pleeg is ongered.  Tog moet ons nie dink dat selfmoord die onvergeeflike sonde is, of dat iemand wat dit pleeg outomaties hel toe gaan nie.

 

Ek het gehoor hoe ‘n man by ‘n Bybelstudie sê dat iemand wat selfmoord pleeg dadelik hel toe gaan.  Volgens Romeine 8:38-39 kan niks ‘n ware gelowige skei van God se liefde nie.  Ek het laas naweek ‘n begrafnis bygewoon van ‘n ware gelowige wat selfmoord gepleeg het.

 

Maar ons moet erken dat selfmoord ‘n aaklige, selfsugtige, en skandelike sonde is (1 Samuel 31:4-5, Matteus 27:5, Rigters 9:54, 2 Samuel 17:23, 1 Konings 16:18-19).  Iemand wat selfmoord pleeg beskuldig God vir sy of haar omstandighede, maar vertrou Hom nie vir ‘n uitkoms nie.

 

Daar is vergifnis vir mense wat al probeer het om selfmoord te pleeg.  Vertrou dat die Here jou deur jou moeilike omstandighede sal help (Psalm 42:6).  As jy mense ken wat hiertoe geneig is moet jy hulle met groot deernis en geduld help (1 Tessalonisense 5:14, Judas 22-23).

 

ABORSIE[1]

As die bevrugte eiersel, sigoot, embrio of fetus ‘n mens is, dan is aborsie moord.  Volgens die Skrif is die mens by konsepsie reeds ‘n sondaar en daarom ook ‘n mens (Psalm 51:7).  God beskou die persoon in die baarmoeder as ‘n mens wat na sy beeld gemaak is (21:22-25, Psalm 139:13-16, Jesaja 49:1, Lukas 1:15, 41).

 

Die ongebore baba is nie deel van die ma se liggaam soos haar niere, arms, of mangels nie.  Die kind het sy eie DNA, en dikwels ook sy eie bloedgroep en geslag.  Die ma of die kind kan sterf, terwyl die ander een oorleef.  ‘n Chinese sigoot kan in in ‘n Sweedse ma se baarmoeder ingeplant word, en sal nogsteeds ‘n Chinese baba bly.

 

Dit is ironies dat ons samelewing babas vermoor, maar sê ons moet hulle nie beskadig met drank, sigarette of x-strale tydens swangerskap nie.

 

‘Maar wat as die ma se lewe in gevaar is?’ vra iemand.  Sulke gevalle is bitter skaars.  Indien dit wel die geval is moet jy nie die baba vermoor nie, maar die ma se lewe probeer red.  As die kind in die proses sterf is dit nie moord nie.

 

Is aborsie toelaatbaar vir verkragting en bloedskande?  Nee.  Gee eerder die kind op vir aanneming, maar moenie die baba straf vir die sonde van die verkragter nie.  Deuteronomium 24:16 sê:  “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.”

 

Wat as die kind gestremd is?  ‘n Dokter het vir een van ons oud-lidmate gesê:  ‘Die baba in jou baarmoeder het Down sindroom.  Ek beveel aan dat jy die kind laat aborteer.’  Die kind is normaal gebore.  Maar wat ás die kind gestremd was by geboorte?  Het sulke kinders nie die reg om te lewe nie?  ‘n Predikant se dogter het verstandelik gestremd geraak deur ‘n fietsongeluk.  Sal dit aanvaarbaar wees om so ‘n kind dood te maak?  Hoekom is dit dan aanvaarbaar om verstandelik gestremde babas te vermoor?

 

Dalk is jy skuldig aan hierdie sonde.  In Jesus Christus is daar vergifnis vir moordenaars (1 Korintiërs 6:9-11, Lukas 23:34, 43).  Maar as jy jou nie bekeer nie sal jy hel toe gaan (Openbaring 21:8).

 

Die sewende gebod (v.14)

‘n Paar weke gelede het ‘n ongetroude persoon vir my gesê:  ‘Ek weet seks voor die huwelik is verkeerd, maar ek het dit gedoen omdat ek regtig lief is vir die persoon.’  Mense wat só redeneer het nie ‘n begrip van wat liefde is nie.  As jy jou naaste liefhet sal jy sy of haar lewe, reinheid, besittings, en reputasie respekteer.  Met ander woorde, jy sal die Tien Gebooie nakom.

 

In die ou Suid-Afrika was egbreuk ‘n misdaad.  ‘n Maand of twee gelede het ‘n prokureur ‘met groot vreugde’ (sy eie woorde) op RSG gesê dat dit nie méér so is nie.  Daarna het die aanbieder en prokureurs grappe hieroor gemaak en gepraat asof egbreuk goed is.  Volgens die Bybel is dit ‘n lelike sonde.

 

Egbreuk verwys na die verbreking van die huweliksband.  Ons praat hier van enige seksuele sonde:  rondslaap, homoseksualiteit, prostitusie, pedofilia, verkragting, bestialiteit, bloedskande, poligamie, skei en hertrou op onbybelse gronde (Matteus 19:9, 1 Korintiërs 7:15).

 

Tragies om te sê dat hierdie sondes ook in die kerk gevind word.  In ons eie gemeente moes ons al mense hiervoor dissiplineer.  Ander in ons kerk het van hierdie dinge gedoen, maar berou gehad sodat dit nie voor die kerk genoem is nie.  In my bediening het ek al gehoor van lidmate van goeie kerke wat homoseksualiteit beoefen, prostitute besoek, kinders molesteer, met meer as een vrou trou, ‘n sterk seksuele begeerte het vir perde, skei en weer trou asof dit uit die mode uit gaan.  Dit is skandelik!

 

Selfs ongetroudes kan die sewende gebod breek.  As hulle ongetroud is en saamslaap, besmet en onteer hulle die huweliksbed (Hebreërs 13:4).  Op dié manier breek hulle hierdie gebod en sondig hulle.

 

Hoe kan jy dié gebod gehoorsaam?  Van die staanspoor af wil ek duidelik maak dat ek met gelowiges praat.  As jy ongered is kán jy nie God se wet reg gehoorsaam nie (Romeine 8:7-8).

 

So, vir gelowiges sê ek:  Moenie net teen vuil dade probeer veg nie, maar ook teen sondige gedagtes.  Volgens Jesus is wellustige gedagtes reeds egbreuk in die hart (Matteus 5:27-28).  Om onrein gedagtes te wen, moet jy jou hart en denke vul met die Skrif.  Memoriseer en oordink dit:

 

“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?  Deur dit te hou na u woord… Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Psalm 119:9, 11).  “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” (Filippense 4:8).

 

As jy nie jou gedagtes beheer nie, sal dit uiteindelik uitbreek in skandelike dade.  Jy sal oes wat jy geplant het (Galasiërs 6:7-8).  Jy flous jouself as jy anders dink (Jakobus 1:14-15).  As jy aanhou om hierdie dinge te dink, sal jy selfs jou eie suster verkrag (2 Samuel 13), en dalk ‘n moord pleeg om jou sonde te probeer wegsteek (2 Samuel 11).  Dalk sal jou vuil gedagtes duidelik word as jy die dag Alzheimer’s kry en jy allerhande seksuele en perverse opmerkings maak.  Almal sal geskok wees dat ‘n wonderlike mens soos jý dit kan dan, maar wat hulle nie weet nie is dat dít die ware jy is.

 

John MacArthur het van predikante gesê:  ‘When a pastor falls into sexual sin, he doesn’t fall far.’  Sy bedoeling was dat die predikant al lankal met hierdie dinge in sy gedagtes besig is.  Die eintlike daad van egbreuk was net die laaste stap.  Hierdie beginsel geld nie net vir predikante nie, maar vir ons almal.

 

Hier is nog ‘n paar wenke om seksuele sonde te oorkom:

 

  • Vermy mense, plekke, omstandighede wat hiertoe kan lei (Spreuke 5:8, Genesis 39:7, 10). Moenie vir jou vlees die geleentheid skep om te sondig nie (Romeine 13:14).
  • Breek vriendskappe en raak ontslae van CD’s, DVD’s, briewe, geskenke, jou TV en internet konneksie – enigiets wat jou versoek om te sondig. In Jesus se woorde: kap jou hand af en pluk jou oog uit (Matteus 5:29-30).
  • Moenie eers oor hierdie dinge praat nie (Efesiërs 5:3-4). Dit mag jou net opgewonde maak en in die strik laat trap.
  • Pasop vir te veel drank, want dit kan maklik hiertoe lei (Efesiërs 5:18).
  • Pasop ook vir soene wat jou hormone kan opwarm, sodat jy nie weet wanneer om te stop nie (Spreuke 7:13).
  • Wees versigtig vir ledigheid. As jy niks het om te doen nie sal jou vlees en die duiwel vir jou iets kry om te doen (2 Samuel 11:1, 2-5).
  • Geniet jou eie huweliksmaat (1 Korintiërs 7:2-5).
  • Trou (1 Korintiërs 7:9).
  • Moenie onbeskeie klere dra, sodat jy mans versoek nie (1 Timoteus 2:9-10). Weë die een deur wie die versoeking kom (Matteus 18:7).

 

Dink aan die gevolge van egbreuk:

 

[1] Die huwelik is ‘n weerspieëling van Jesus se verhouding met die kerk (Efesiërs 5:22-23).  Iemand wat dan egbreuk pleeg vertel leuens oor Hom.

 

[2] Jou eie reputasie sal skade lei (Spreuke 6:33).

 

[3] Jy sal mense se harte breek:  jou maat en kinders, die ander persoon se maat en kinders, jou geestelike leiers, jou familie, jou medegelowiges (2 Korintiërs 12:21).

 

[4] God sal jou straf met seksueel-oordraagbare siektes, die dood, en die hel (Levitikus 18, 20, Spreuke 5:11, Openbaring 21:8).

 

Die agtste gebod (v.15)

Hierdie gebod kan op honderde maniere toegepas word.  Kom ek noem maar ‘n paar maniere hoe mense vandag steel:

 

  • Mense steel goed uit winkels.
  • Mense breek in by huise.
  • Mense steel geld uit die werk se kleinkas en sê: ‘Ek sal dit later weer terugsit.’
  • Mense steel skryfbehoeftes, papier, gereedskap by die werk.
  • Kinders steel geld by hulle ouers (Spreuke 28:24).
  • Mense misbruik die werk se telefoon, kar, fotostaatmasjien, petrol- of kredietkaart vir hulle private gebruik.
  • Mense hou hulle werkers se salarisse terug, en steel so iemand anders se rente (Levitikus 19:13).
  • Mense vul nie hulle belastingvorms akkuraat in nie, maar omseil die wet op slinkse maniere.
  • Mense word betaal vir 8 ure se werk, maar werk net vir 5 of 6 ure. Hulle steel hulle werkgewer se tyd en geld. Hulle sit op Facebook terwyl hulle moet werk. Hulle vat ekstra tyd vir tee en ete. Hulle gaan McDonald’s toe of kuier by vriende terwyl hulle kliënte moet sien.
  • Mense vra vir kliënte meer geld as wat die produk of diens wat hulle gelewer het, werd is. ‘n Taxi-bestuurder by Durban lughawe het R800 gevra om ons na Port Shepstone toe te vat. Toe ons in Port Shepstone kom het iemand gesê dat hy slegs R80 betaal het. Ek het onlangs navraag gedoen om my kar se skokbrekers te vervang. Die man het my R6500 gevra. Ek het bewyse dat hy my wou indoen.
  • Kinders en studente skryf huiswerk en toetse af. Een leerder het die groeptaak gedoen, maar jy kry die punte. Die vrae- of antwoordstel lek uit. As jy skuldig is hieraan is jy ‘n dief.
  • Mense vat omkoopgeld om iemand gouer en op onwettige maniere te help (bv. met lisensies of paspoorte).
  • Mense maak onwettige kopieë van DVD’s, boeke, rekenaar programme.
  • Mense pleeg plagiaat: hulle vat ‘n ander persoon se werk en maak of dit hulle eie is. Predikante is te lui om ‘n preek voor te berei, en steel ander dominees se preke op die internet (Jeremia 23:30).
  • Predikante speel op mense se gevoelens sodat hulle meer geld in die offergawe sal ingooi. TBN se predikers is veral skuldig hieraan.
  • Mense steel ander se tyd. In die begin van my bediening het ‘n vrou my gereeld gebel en vir ‘n uur op ‘n slag met my gepraat. As jy gedurig laat kom vir afsprake steel jy ander mense se tyd. Bel ten minste en maak verskoning as jy weet jy gaan laat wees. ‘Being late is not loving your neighbour.’ (Stuart Olyott).
  • Mense wys geen respek vir ander mense se besittings nie, maar breek, verloor, beskadig die goed wat hulle leen.
  • Die Kommuniste vat ander se besittings vir hulleself.
  • Mense steel ander om van hulle slawe te maak (21:16). ‘Human trafficking’ is wat hulle dit vandag noem.
  • Mense mors God se geld en besittings wat Hy aan hulle toevertrou het. God sal van ons rekenskap eis oor hoe ons sy eiendom bestee het.
  • Mense betaal nie die geld wat hulle skuld nie (Romeine 13:7-8).

 

Is jy skuldig aan enige van die bogenoemde?  Ja?  Dan is jy ‘n dief.  Bely jou sonde aan God en die mense teen wie jy skuldig is.  Betaal terug wat jy gesteel het (22:7, Lukas 19:8).

 

Ek het onlangs onthou hoe my honde die buurman se haas gevang het.  Hy het my gevra of ek sy haas gesien het.  Ek het ‘nee’ gesê.  Ek moes my leuen aan hom bely en ook restitusie maak (ek het vir hom geld gegee om ‘n nuwe haas te koop).

 

Moenie steel nie, maar werk eerlik en hard.  Deel eerder jou eie geld, tyd, kos, gawes, besittings, en middele as wat jy iemand anders s’n vat (Efesiërs 4:28).  Onthou dat diewe nie die koninkryk van God sal sien nie (1 Korintiërs 6:10).

 

Die negende gebod (v.16)

Jy mag nie vals getuienis teen jou naaste aflê nie.  Wat beteken dit?

 

[1] Jy mag hom nie valslik beskuldig en leuens vertel in die hof nie (Deuteronomium 19:15-21).  In ons land aanvaar prokureurs, regters, en polisiemanne omkoopgeld en vertel hulle leuens.

 

[2] Moenie vals gerugte oor ander versprei nie (23:1).  Mense doen dit veral in e-posse, op Facebook en Whatsapp.  Moenie skinder nie (Levitikus 19:16).  Is dit wat jy oorvertel hoorsê?  Het jy al die feite en ken jy die persoon se motiewe?

 

[3] Moenie oordryf en sê:  ‘Sy is altyd… Hy doen nooit…’

 

Ons moenie net die waarheid oor ander praat nie, maar ook met hulle:

 

[4] Moenie vir jou ouers jok om ‘n pakslae vry te spring nie.

 

[5] Moenie vir mense geskenke belowe wat jy nie gee nie.  “‘n Man wat hom beroem op ‘n geskenk wat hy tog nie gee nie, is soos dampe en wind waar geen reënbui by is nie.” (Spreuke 25:14).

 

[6] Doen wat jy belowe.  ‘Ek sal môre 10:00 daar wees… Ek sal volgende keer kom kyk as jy rugby speel… Ek sal vir jou ‘n lekker koop as jy stilsit by die tandarts… As jy weer op die banke spring gaan ek vir jou pak gee… Ons sal vir jou bid…’

 

[7] Moenie jou storie oordryf sodat jy kan goed lyk nie.

 

[8] Moenie mense vlei nie.  Om dít te doen is om met ‘n mooi gesig te jok.

 

[9] Moenie op jou CV lieg oor jou bekwaamheid, kwalifikasies, of ondervinding nie.

 

[10] Moenie vir kliënte lieg oor hoe goed die produk is nie.

 

[11] Moenie belangrike inligting terughou nie.  Om dit te doen is om te jok.  Iemand wat bv. ‘n kar verkoop en nie vir die kliënt sê die cambelt is op die koffie nie, oortree die negende gebod.

 

[12] As jy hoor hoe iemand jok, terwyl jy die waarheid ken maar stilbly, dan deel jy in die leuen.

 

[13] Vals lering is ook ‘n leuen.  Moet dan nie vir iemand se verjaarsdag ‘n boek, dagboek, of dagstuk koop waarvan jy nie die inhoud ken nie.

 

Jy moet so betroubaar wees dat dit nie nodig is om te sweer, ‘n eed te maak, jou erewoord te gee, of jou hand op die Bybel te sit nie.  Laat jou ja ja wees en jou nee nee (Matteus 5:33-37).

 

‘n Joodse sakeman in die Vrystaat het gehoor dat iemand iets by hom wou leen.  Hy het eers nee gesê, maar toe hy hoor dat dit een van die Cornelia-Baptiste is, het hy gesê:  ‘O, is hy van die Baptiste?  Nee, dan is die saak reg.  Hy kan dit maar leen.  Die Baptiste is eerlike mense.’  Ons moet ook só ‘n reputasie hê.

 

Is dit soms toelaatbaar om te lieg?  Wat as iemand by jou huis inbreek en vra waar jou vrou en kinders is?  Jy kan die vraag vermy, die gesprek weglei, stilbly, of weier om iets te sê.  Ek is van mening dat dit altyd verkeerd is om te jok.  Die doel heilig nie die middele nie.  Die beginsel wat geld vir steel, geld ook vir jok:

 

“‘n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het; en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee.” (Spreuke 6:30-31).  Ons voel jammer vir die dief wat steel omdat hy honger is.  Tog kan sy sonde nie verskoon word nie.

 

Hoekom moet jy nie lieg nie?  Die duiwel is die vader van die leuen; as jy lieg is jy sy kind (Johannes 8:44, Psalm 58:4).  Leuenaars sal hel toe gaan (Openbaring 21:8, 22:15).  Iemand wie se hart verander is, is ook gevul met die waarheid.  Hy is soos Jesus en praat die waarheid (Johannes 14:6, 1 Petrus 2:22, Efesiërs 4:25).  As jy leuens vertel oor mense dan smeer jy hulle reputasie swart en bring jy hulle in die moeilikheid (Markus 14:56-57, Handelinge 6:13).

 

Die tiende gebod (v.17)

Die tiende gebod is die wortel van die vorige vyf:  “Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.” (Matteus 15:19).  Begeerlikheid was ook deel van die eerste sonde in Genesis 3:6.

 

God wil nie net hê jy moet reg praat of optree nie, maar ook dat jou hart moet reg wees.  As jy dié gebod oortree, sal jy maklik die res oortree.  Jy sal steel, moord pleeg, en egbreuk pleeg om te kry wat jy begeer (sien 2 Samuel 11).  Om iets so sterk te begeer dat jy sal sondig om dit te kry, is om ‘n afgod daarvan te maak (Kolossense 3:5).

 

Moenie ander se goed begeer nie.  Hoe oortree mense hierdie gebod?

 

  • Jy wens iemand gee vir jou sy geld of besittings (Handelinge 24:26).
  • Jy dagdroom oor hoe so-en-so doodgaan, en jy sy ou goed kry of erf. Of jy wens hy kry nuwes, sodat jy sy oues kan kry.
  • Jy dagdroom oor hoe dit moet wees om met __ getroud te wees, en wens hy of sy was jóú huweliksmaat (Matteus 5:28).
  • Jy kla oor grondeise, maar jy self begeer iemand anders se huis of plaas (Miga 2:2).
  • Jy is jaloers op iemand anders se groter gemeente, beter gawes, mooier liggaam, duurder goed, sukses, posisie, guns wat hy met die baas het, bevordering, roem, omstandighede, soet kinders, gelukkige gesin, kinders wat presteer in sport of akademie, klere, nuwe selfoon, mooi horlosie, ens.
  • Jy wens jy wen die LOTTO.

 

Die wêreld versoek ons om materialisties te wees, om alewig nuwe en beter dinge te soek.  Jesus het gewaarsku:  “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.” (Lukas 12:15).

 

Hierdie gebod is nie teen rykdom, harde werk, en mooi goed nie (Job 42:12, Spreuke 21:20, Deuteronomium 8:18, 1 Samuel 2:7).  Dit wil ons eerder waarsku teen ‘n gejaag na geld, besittings, of dit wat ander het (1 Timoteus 6:10, Matteus 6:24).  C.S. Lewis het gesê:  ‘The problem is not with nice cars and big houses, but with nicer cars and bigger houses.’  Die tiende gebod wil ons waarsku teen TBN se predikers wat maak asof Jesus bestaan om ons ryk te maak.

 

Om begeerlikheid te oorkom moet jy leer om tevrede te wees met wat jy het (Filippense 4:11-13, 1 Timoteus 6:8, kontrasteer Romeine 7:7-8).  Dank die Here vir dit wat jy het.  As jy ‘n kar het, is jy onder die rykstes in die wêreld.  Wees ook baie vrygewig.  Gee weg eerder as wat jy opgaar.

 

Onthou dat God nie net jou dade sal oordeel nie, maar ook jou geheime begeertes (Romeine 2:16).  Tog is daar vergifnis vir mense wat God se wet oortree (1 Korintiërs 6:9-11).  Jesus het die wet perfek onderhou en die straf gekry asof Hy dit oortree het.  Dit het hy gedoen vir almal wat hulle bekeer en op Hom vertrou.

 

Ek het die eerste keer van kleptomania gehoor toe ek in graad 2 was.  ‘n Kind in my broer se klas het vreeslik gesteel.  Hy het eendag tydens krieket oefening ‘n ander kind se fiets gesteel.  Hulle het hom gevang en geslaan.

 

Dít is hoe die wêreld die oortreding van God se wet sien:  nie as sonde waarvoor jy verantwoordelik is, maar as ‘n siekte waarvoor jy nie kan help nie.  Vir die wêreld lê die oplossing in pille en terapie, en nie in berou, belydenis, of bekering nie.  Volgens hulle moet ons die moordenaar bejammer, is die persoon wat rondslaap verslaaf en onskuldig, is die leuenaar en die persoon wat dobbel siek.

 

Alhoewel geen mediese toetse kan bewys dat dit ‘n siekte is nie, eet ons hierdie teorieë op vir soetkoek.  As hierdie dinge ‘n siekte is, is daar geen hoop dat dié mense ooit kan verander nie.  Indien dit egter sonde is, is daar hoop en vergifnis in die kruis.

 

Dink aan enige lied wat jy onlangs op die radio of op ‘n CD gehoor het.  Waaroor het dit gegaan?  Oor liefde?  Waaskynlik.  Hoekom?  Almal is opsoek na die vervulling wat ware liefde bring.  Tog soek mense dit op die verkeerde plek:  in die arms van iemand wat mooi gebou is, jou laat goed voel, sterk is, of jou sal beskerm.  Vir die wêreld gaan liefde oor emosie, plesier, of ‘n sterk gevoel wat selfgerig is.

 

In die Bybel gaan liefde nie bloot oor ‘n selfgesentreerde plesier of gevoel nie.  Dit gaan eerste oor God en dan oor jou naaste (sien Matteus 22:37-40).  Dit word uitgeleef in die dade en gesindheid wat in die Tien Gebooie beskryf word.

 

[1] Baie van wat ek oor aborsie sê het ek gekry uit Why Pro-Life? van Randy Alcorn

Dink reg oor seks

Marilyn Monroe 2

‘n Paar maande gelede het die regering besin om seks wettig te maak vir 12-jariges.  ‘n Onlangse Beeldopskrif het gesê dat hulle kondome vir 10-jariges wil uitdeel.

 

Die wêreld se idee van seksuele moraliteit is ver verwyderd van wat die Skrif leer.  1 Korintiërs 6:12-20 help ons om reg te dink oor seks.

 

Die Korintiërs se verkeerde denke (v.12-14)

Die Korintiërs sou saamstem met dié gediggies:

 

Free from the law,

O happy condition;

I can sin as I please

And still have remission.[1]

EN

Sex is evil,

sex is sin,

sins are forgiven,

so sex is in.

 

Verse 12-14 maak duidelik dat Paulus nie sou saamstem nie.

 

Jesus het ons skoon gewas, geheilig, en geregverdig (v.11).  Daarom is ons vry.  Met dít in gedagte het die Korintiërs gesê:  ‘Alles is vir my toelaatbaar’ (v.12).  Paulus stem saam, maar sê dat alles jou nie geestelik sal opbou of bevoordeel nie; jy moenie ‘n slaaf wees van enigiets nie (v.12, 10:23).  Ons is vry in Jesus, maar ons moenie ons vryheid as ‘n verskoning gebruik om sonde te doen nie (Galasiërs 5:13, 1 Petrus 2:16).

 

Die Korintiërs het ook gesê dat seksuele immoraliteit so biologies en normaal is soos kos vir jou maag.  Soos kos en jou liggaam, gaan seks eendag nie meer wees nie (v.13, Matteus 15:17).  Dan maak dit mos nie saak of jy jou liggaam gebruik om rond te slaap nie, of hoe?  Jare gelede het ‘n student sy pornografie só probeer regverdig.  ‘Ek geniet net God se skepping,’ het hy gesê.

 

Paulus sê dat die liggaam nie vir seks geskep is nie, maar vir God:  Hý sê hoe die liggaam reg gebruik moet word (v.13).  Die liggaam is nie sleg soos wat die Grieke geglo het nie.  Toe ek op skool was het ek saam met ‘n Ou Apostel gewerk.  Sy het gesê dat ‘n mens maar kan drink, rook, vloek, en rondslaap, omdat die liggaam nie belangrik is nie.  God sê egter dat dit belangrik is, en daarom sal Hy weer ons liggame uit die dood uit opwek (v.14, Johannes 6:40).

 

Paulus se regte denke (v.15-20)

Vir 1900 jaar het Christene die Bybel geglo en gesê dat seksuele immoraliteit sonde is.  Eers in die 20ste eeu het sielkunde gesê dat dit ‘n siekte is.  ‘n Vrou het op ‘n Amerikaanse Christelike radiostasie ingebel.  ‘Ek slaap rond met almal; ek wíl graag verander maar voel magteloos,’ het sy gesê.  Die berader het gesê dat haar seksuele gedrag ‘n natuurlike reaksie is op haar passiewe pa en oorbetrokke ma.  Hy het gesê:  ‘Jy is verslaaf.  Jou seksuele neigings sal nie gou verdwyn nie.  Sluit aan by ‘n kerk wat jou leefstyl sal aanvaar, terwyl die wonde wat máák dat jy sondig, genees word.[2]

 

Maar wat van 1 Korintiërs 5-6?

 

‘n Amerikaanse koerant (Orange County Register, 13 Feb.1989) het vertel van ‘n kliniek vir Christen seksverslaafdes.  Dié kliniek was verbonde aan ‘n bekende Protestantse kerk in die area.  Volgens die kliniek is seksuele immoraliteit ‘n siekte.  Hulle het die krag van die Woord ontken en gesê:  ‘Some groups of Christians believe the Bible is all you need.’[3]

 

Om só te dink oor seks is verkeerd.  In v.15-20 help Paulus ons om reg te dink.

 

Jesus is die Hoof van die kerk en ons is die lede van sy liggaam (v.15, 12:27).  Ons moenie sy lede vat en dit een vlees maak met ‘n tempelprostituut nie (v.15-16, Genesis 2:24).  Jy is een gees met Jesus (v.17).  Die res van die Skrif bevestig dit:

 

  • “Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.” (Efesiërs 5:31-32).
  • Jesus het gebid “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het… Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.” (Johannes 17:21, 23).
  • “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (Johannes 15:4-5).
  • “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid. En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” (Romeine 8:9-11).
  • “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Galasiërs 2:20).

 

Omdat die Korintiërs een was met Jesus, moes hulle nie een word met ‘n tempelprostituut nie.  Die Griekse werkwoord in v.18 dui aan dat ons moet aanhou om te vlug vir seksuele sonde.  As jy daarin voortleef sal jy nie God se Koninkryk sien nie (v.9).  Ons moet dié sonde doodmaak en dit nie eers onder ons noem nie (Kolossense 3:5, Efesiërs 5:3).

 

As jy drank misbruik kom die sonde van buite af.  As jy seksueel sondig kom die onreinheid van binne af.  Jy sondig teen jou eie liggaam (v.18).  As jy deur seksuele sonde siek word sondig jy óók teen jou liggaam (Spreuke 5:11).  Jou liggaam is ‘n tempel – die allerheiligste – van die Heilige Gees (v.19, Johannes 2:21).  As jy jou liggaam (God se tempel) gebruik om rond te slaap, is dit asof die hoëpriester ‘n prostituut in die allerheiligste invat en seks het voor die ark!

 

Jou liggaam behoort aan God:  Hy het jou geskep en Hy het jou gered (v.19-20, Romeine 14:7-8).  God het jou gekoop met ‘n prys, met sy eie bloed (v.20, 7:23, Handelinge 20:28, 1 Petrus 1:18-19, Openbaring 5:9).  As Hy jou dan met ‘n prys gekoop het, moet jy nie ‘n prys betaal om met ‘n prostituut te slaap nie (v.20, 7:23, Hd.20:28, 1 Pt.1:18-19, Op.5:9).  God het jou gekoop om sy slaaf te wees, en daarom moet jy nie vir jouself lewe nie, maar vir Hom (v.20, 12).  Verheerlik Hom in jou liggaam (v.20, 10:31, Romeine 12:1).

 

Dink reg oor seks.  God het seks geskep en weet hoe dit reg moet werk.  Moenie onkundig wees oor wat die Skrif sê nie.  Paulus sê oor en oor dat ons die Skrif moet ken:  ‘Weet julle nie?… Weet julle nie?… Weet julle nie?…’ (v.15, 2, 3, 9, 16, 19, 5:6).  Ons moet weet dat God seks ontwerp het vir die huwelik (Genesis 2:24).  Ons moet weet dat seks in die huwelik goed is, en dat seksuele sonde dodelik is (Spreuke 5-7).  Druk jou ore toe vir die wêreld se lering oor seks.

 

[1] Moenie luister vir sielkundiges wat sê jy kan dit nie help nie, omdat dit ‘n siekte is.

 

[2] Moenie vir die regering luister wat kondome wil uitgee om VIGS te vermy nie.  Hulle wil VIGS vermy, maar nie immorele seks wat die VIGS veroorsaak nie.

 

[3] Moenie jou onderwysers of die kirrikulum hierin volg nie.  Ek het in die laer- en hoërskool verkeerde lering hieroor gekry.

 

[4] Moenie dat jou vriende jou leer nie.

 

[5] Moenie wêreldse boeke hieroor lees nie.

 

[6] Pasop vir wat TV, films, koerante en tydskrifte soos die Huisgenoot jou oor seks leer.

 

[7] Pasop ook vir vals leraars.  Die NG-Sinode het ‘n paar jaar gelede plek gemaak vir mense wat wil saambly.

 

Ouers en kerke moet Bybelse lering hieroor gee.  Sê vir jou kinders dat iemand wat met almal slaap nie seksuele vryheid het nie.  Hulle is slawe, voel vuil, het ‘n skuldige gewete, kan maklik seksueel-oordraagbare siektes kry, sal in die skande kom, is selfsugtig en nie lief vir dié met wie hulle slaap nie, steel ander se seksuele reinheid, bring God se frons oor hulleself, en sal hel toe gaan (v.12).  Hebreërs 13:4 sê:  “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”  Openbaring 21:8 sê:  “afgodedienaars… is in die poel wat brand met vuur en swawel:  dit is die tweede dood.”

 

As jy in die huwelik seks het bring dit plesier en sal jy nie seksuele siektes kry nie.  Die Here sal oor jou glimlag.  Jy sal ‘n skoon gewete hê en nie gestraf word nie.  Is dit nie duidelik uit ‘n boek soos Hooglied nie?

 

Sê vir jou kinders hulle moet vlug vir seksuele sonde (v.18).  Iemand het gesê dat die beste hulp teen seksuele sonde ‘n goeie paar hardlooptekkies is.  Moenie dom wees en vra:  ‘Hoe ver kan twee ongetroudes gaan voordat dit sonde is’ nie.  Moenie kyk hoe naby jy aan die sonde kan kom sonder om te val nie, maar probeer eerder om so ver as moontlik daarvan af weg te bly (Spreuke 5:8).  Kap jou hand af en pluk jou oog uit (Matteus 5:29-30).  Raak ontslae van jou internet konneksie of TV as dit jou pla.  Moenie swembad of gym toe gaan as die vroue se klere jou laat struikel nie.

 

Moenie sê:  ‘My liggaam is myne, en ek kan daarmee doen wat ek wil’ nie.  Jou liggaam is nie joune nie, maar God s’n:  verheerlik God daarom in jou liggaam (v.19-20).

 

Sê vir jou kinders dat seksuele sonde baie gevaarlik is.  John Owen het gesê:  ‘You kill sin or sin will kill you.’  Moenie net die dade probeer doodmaak nie, maar maak die sondige begeertes dood in jou hart (Matteus 5:27-28).

 

  • Is jy seksueel losbandig, maar dit pla jou nie? As jy so leef sal jy nie hemel toe gaan nie (v.9-10).
  • Pla hierdie preek jou gewete? Jou sonde kan vergewe word (v.11). Jesus het die straf vir ons sonde op Homself geneem aan die kruis en weer opgestaan uit die dood. Glo en vertrou op Hom; gaan heen en sondig nie meer nie (Johannes 8:11).
  • Is jy gered? Het jy in dié strik getrap, maar jy is nie regtig gepla nie? Die swaar hand van God se tugtiging sal oor jou kom (hfst.5).
  • Is jy ‘n geredde persoon wat só gesondig het? Pla jou sonde jou baie? Bely en laat staan jou sonde en God sal jou vergewe (v.18, 1 Johannes 1:9).

 

Hoekom moet jy reg dink oor seks?  Wie wil nié reg dink oor ‘n saak wat ewige gevolge het nie (v.9-10)?

 

Charlie werk op ‘n plaas in Limpopo.  Hy werk hard, is getrou en lojaal, en het respek vir sy baas en mede-werkers… totdat die baas hom voorman gemaak het.  Skielik het hy hoogmoedig geword.  Hy het begin baasspeel, drink, werk mis, terugpraat met die baas, en die werkers geslaan.  Sy baas het hom ernstig gewaarsku en weer ‘n gewone werker gemaak.  Hy was weer die ou Charlie:  getrou, lojaal, hardwerkend, en vol respek.

 

Charlie was ‘n goeie werker maar ‘n slegte baas.  So is dit met seks:  seks is ‘n goeie slaaf (in die huwelik), maar ‘n slegte meester (buite die huwelik).  Dít is hoe ons moet dink oor seks.

[1] David E. Garland, 1 Corinthians: Baker Exegetical Commentary on the New Testament, p.222

[2] John MacArthur, How to Counsel Biblically, p.15

[3] Ibid, p.17

Die tien plae: Sprinkane

Locust plague

In 2008 het ek die evangelie met ‘n sekuriteitswag gedeel.  Hy het gesê dat hy in Shembe glo, en dat Jesus ‘n profeet was maar nie God nie.  Ek het vir hom gevra of Shembe die see kan bedaar; of Shembe sondeloos is.  Die Skrif leer duidelik dat Jesus die ware God is.  Judas 5 sê:  “Jesus… saved a people out of the land of Egypt, afterward destroyed those who did not believe.” (ESV).  Ja, dit was Jesus wat in Eksodus 10:1-20 die sprinkaanplaag gestuur het.  Ook hier het Hy gewys dat hy die ware God is.

 

Die sewende plaag:  Sprinkane (v.1-20)

 

[1] God waarsku vir Farao (v.1-6)

Ek het eenkeer vir ‘n apteker gevra hoekom hy kerkgeskiedenis begins studeer het.  Sy antwoord was:  ‘As ons die geskiedenis ken kan ons die foute vermy wat hulle gemaak het, en leer uit die goeie dinge wat hulle gedoen het.’  Ek sal byvoeg dat ons die Here kan prys vir die groot dinge wat Hy gedoen het deur sy volk te verlos en haar vyande te oordeel.  Ons kan begeer dat Hy dieselfde in ons tyd sal doen.  As ek oor die hervorming of herlewings lees, begeer ek dat die Here weer so sal ingryp.  Dis die les in die eerste ses verse.

 

Moses het dié keer in die paleis ingegaan om met Farao te praat.  Nog ‘n keer sou die Here sy krag aan die verharde Farao wys.  Deur dié en ander wonders sou Israel se nageslag ook weet dat Hy die ware God is (v.2).  “o God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel:  ‘n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd.” (Psalm 44:2).  “Hy tog het ‘n getuienis opgerig in Jakob en ‘n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het—om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar” (Psalm 78:5-7).  Na die sprinkaan plaag in Joël sê die Here:  “Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag” (Joël 1:3).

 

Die koning het steeds geweier om hom voor God te verneder, en die bevel te gehoorsaam om Israel te laat trek.  God sou genadig gewees het as Farao hom onderwerp het (1 Konings 21:29, 1 Petrus 5:6).  Omdat Farao hardkoppig was, het die Here gesê dat Hy die volgende dag ‘n sprinkaanplaag sou stuur.  Nog ‘n keer het die Here gewys dat Hy soewerein is en die gode nie.  Selfs met ‘n dag se kennis kon die gode Hom nie keer nie.  Die sprinkane sou die land bedek, die bome kaal vrees, en in die huise inklim – die ergste plaag wat Egipte ooit gesien het (v.6, 14).  Joël se beskrywing van so ‘n plaag help ons om Eksodus 10 beter te verstaan:

 

  • “Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind.” (Joël 1:4).
  • “Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword.” (Joël 1:7).
  • “‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ‘n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.” (Joël 2:2).
  • “Voor hom uit verteer ‘n vuur, en agter hom brand ‘n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit ‘n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie.” (Joël 2:3).
  • “Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos ‘n dief.” (Joël 2:9).

 

Die sprinkaanplaag, soos die haelplaag, was ‘n aanval op die Egitiese gode van die atmosferiese hemel.  Shu, Tefnut, en Nut was veronderstel om die wind te beheer (v.13, 19).  God het ook die gode van die plante, landbou, en oeste – Geb en Seth – vernietig (v.5, 12, 15).  Volgens die Egiptiese godsdiens het Serapia die sprinkane beskerm.  Die God van Israel het gewys dat ook dié god magteloos was (v.19).

 

Ons moet die volgende geslag van die ware God leer, en hulle teen vals gode waarsku.  Sommige Christen pa’s leer nie vir hulle kinders die Bybel nie.  Ek wil pa’s aanmoedig om huisgodsdiens te hou.  Die Bybel sê:

 

  • “en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deuteronomium 6:7).
  • “Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen” (Genesis 18:19).
  • “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Efesiërs 6:4).
  • “ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Josua 24:15).
  • “Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (Spreuke 6:20).
  • “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” (Spreuke 22:6).
  • “jy [ken] van kleins af die heilige Skrifte… wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” (2 Timoteus 3:15).

 

Moet dit nie aan die skool of Sondagskool oorlaat om hulle te leer, sodat jy jou plig versuim nie.  Weet jy wat die skool en Sondagskool vir jou kinders leer?  Indien jy ‘n oupa of ouma is wat weet dat jou kleinkind nie ‘n Bybelse opvoeding kry nie, kan jy gerus die kans gebruik om hom of haar reg te leer.  Timoteus het die evangelie by sy ma en ouma geleer (2 Timoteus 1:5).  Die psalmskrywer sê:  “En ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag.” (Psalm 71:18).

 

Lees vir jou kinders Bybelgeskiedenis, kinder-biografieë en kerkgeskiedenis.  Moet dit nie net lees nie, maar leer vir hulle die lesse daaruit.  Wys ook uit die geskiedenis hoe die kerk dwalinge bestry het.  Jy kan byvoorbeeld vertel hoe die kerk in die hervorming van die vals Katolieke sisteem af weggebreek het.  Vertel ook vir jou kinders hoe die Here in jou lewe gewerk het (Josua 4:6).  Sorg dat jy self ook geskiedenis lees, sodat jy daaruit kan leer.

 

Hoekom is hierdie dinge belangrik?  Hoor die Woord van die Here:  “En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie.  En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE:  hulle het die Baäls gedien en die HERE, die God van hulle vaders, verlaat wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en hulle het agter ander gode aan geloop, van die gode van die volke wat rondom hulle was, en hulle daarvoor neergebuig en die HERE geterg.” (Rigters 2:10-12).  Asaf sê dat ons God se werke vir ons kinders moet vertel, sodat hulle “nie word soos hulle vaders nie, ‘n koppige en wederstrewige geslag, ‘n geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.” (Psalm 78:8, vgl. v.4-7).

 

[2] Farao onderhandel met God (v.7-11)

Daar is ‘n stam in die Kalahari wat bobbejane vang en vir hulle sout voer.  Die bobbejane weet waar die water is.  Met ‘n bek vol sout hardloop hulle baie vinnig na die ondergrondse waterbronne toe.  Só kry die mense water.

 

Maar hoe vang hulle die bobbejaan?  Terwyl ‘n jong bobbejaan toekyk grou die man ‘n klein gat in ‘n miershoop.  Hy sit dan pampoenpitte in die gat.  Die bobbejaan is nuuskierig en steek sy arm in die gat.  As hy die pampoenpitte in sy hand het kom die man nader.  Die bobbejaan skreeu, maar is nie bereid om die pitte te los nie.  So vang die man hom.

 

Farao wou nie voor die Here buig of sy reg as ‘n ‘god’ oor Israel opgee nie.  Hy sou eerder sien hoe die land ondergaan.  Die koning was so hardkoppig dat sy knegte moes vir hom sê dat die land verwoes is, en dat hy die Israeliete moes vrylaat.  Ongelukkig het hulle die idee in sy kop geplant dat hy net die mans moes laat gaan (v.7).  Farao was nie bereid om die kinders vry te laat nie.  Hy het geweet dat hy nog in beheer sou wees as die kinders in Egipte gebly het.  Hy sou die kommuniste se stelling beaam:  ‘Gee my ‘n kind vir die eerste sewe jaar, en hy sal vir die res van sy lewe ‘n kommunis wees.’

 

Farao het bose intensies gehad, en tog sê hy vir Moses en Aäron:  “julle het ‘n verkeerde ding voor oë.” (v.10).  Farao herinterpreteer God se gebod en sê vir Moses:  “Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang.” (v.11).  Hy besluit sommer vir hulle wat God gesê het.  So maak ons post-moderne samelewing:  hulle verdraai die Bybel om dit te laat beteken wat húlle wil.  Verse wat sê dat homoseksualiteit sonde is of dat vroue nie mag preek nie, word verdraai om die teenoorgestelde te beteken.  Moenie soos Farao wees en die Bybel verdraai om jóú voorkeure te pas nie.

 

Farao het vir Moses en Aäron weggejaag (v.11).

 

Buig voor die ware God se Woord en luister na sy waarskuwings.  Moenie net die verse lees wat jou gemaklik laat voel, en die moeilikes oorslaan nie.  Net so moet jy nie afskakel wanneer die prediker tekste uitlê waarvan jy nie hou nie.  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig vir lering (2 Timoteus 3:16).  As gemeente en individue moet ons nederig wees en alles gehoorsaam wat die Here sê.

 

Hoekom moet ons die Skrif gehoorsaam en ag slaan op God se waaskuwings?  As ons nie gehoorsaam is nie, sal God se oordele erger word (Levitikus 27:18, 21, 24, 28).  In Psalm 32:9 sê die Here:  “Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.”  As jy nie nóú voor die ware God buig nie, sal jy later buig.  Op die oordeelsdag sal elke knie voor Jesus buig (Filippense 2:10).

 

[3] God bring en verwyder die plaag (v.12-20)

In Maart 2013 het ‘n sprinkaanplaag Madagaskar getref – die ergste een in 60 jaar.  Een swerm was 15 km lank en het 45 minute geneem om die nasionale pad, roete 7, te kruis.  Daar was omtrent 100 sulke swerms met ‘n totaal van 500 biljoen sprinkane.  Die sprinkane het elke dag 100 000 ton verorber.  Hulle het meer as 50% van die eiland se gewasse vernietig.  Maar die plaag in Egipte was erger.  Die grond kon nie eers gesien word nie.

 

God het die sprinkane met die ooste wind gebring.  Dit moes erg gewees het, want volgens Genesis 41:6 en Jona 4:8 het dié wind plante doodgeskroei en mense laat flou voel.  Die swerm sprinkane was so dig dat die landoppervlak nie gesien kon word nie.  Hulle sou ook die son uitgedoof het.  “Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in.” (Joël 2:10).  Die sprinkane het selfs die bas van die bome afgevreet (v.5, vgl. Joël 1:7).  Het jy al gesien hoe bome vrek as olifante die bas gering het?  Toe die sprinkane deurgetrek het, het dieselfde gebeur.  Al die bome in Egipte het gevrek.  Groen plante gee suurstof.  Omdat die sprinkane al die groen plante afgevreet het, sou die land ‘n suurstof tekort hê.

 

Farao het vir Moses laat roep en weer vals berou gehad.  Hy was nie jammer oor sy sonde nie, maar wou net van die plaag ontslae raak.  Hy was bereid om sy sonde te erken en te bely.  Maar hy was nie regtig jammer nie.  Hy het gesê:  “Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde” (v.17).  Hy was tevrede dat sy sonde net een keer vergewe word.

 

God het ‘n westewind gestuur om die plaag te verwyder.  Hy het al die sprinkane in die Rooisee laat verdrink – ‘n voorskou van wat met die Egiptenare sou gebeur (hfst.14).  Nie een sprinkaan het in die land oorgebly nie.  God het Farao se hard verhard sodat hy Israel nie laat trek het nie.

 

Reageer reg wanneer die Here ‘plae’ in jou lewe stuur.  As God jou tref moet jy nie soos Farao hardkoppig wees en aanhou met jou sonde nie.  Na die plae in Openbaring 9 (onder andere ‘n sprinkaanplaag!) lees ons:  “En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.  En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.” (Openbaring 9:20-21).

 

Wees opreg in jou belydenis en bekering.  Moenie net ‘berou’ hê omdat jy wil hê die Here moet die plaag wegvat nie (v.16-17).  Hoeveel keer moet God jou tref voordat jy sal luister?  As jy sondig en sê dat jou lyding nie Gód se oordeel is nie, skep jy ‘n god van jou eie verbeelding.  Neem Lukas 13:1-5 ter harte:

 

“En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.  En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het?  Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.  Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?  Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.”

 

Bekeer jou van jou sonde en glo die evangelie soos Romeine dit verduidelik.  As jy jou nie bekeer nie, sal dinge erger word – baie erger.

 

Twee weke gelede het een van my vriende ‘n professionele debat gehou teen ‘n Moslem.  Die onderwerp van die dabat was:  Het Jesus gesê dat Hy God is?  Jesus het nie net gesê dat Hy God is nie, maar dat Hy die ware en enigste God is.  Wat Hy in Eksodus 10 gedoen het bewys dit.