Die Perfekte Regering

Perfect government

Die Perfekte Regering?  Dit klink soos een of ander Utopia, soos iets wat nie bestaan nie.  Maar dit bestaan.  ‘Waar?’ wil iemand weet.  Dit bestaan nie in Amerika, in die ANC, of in ons land se vorige regering nie – alles behalwe.  Dit bestaan in die Messias en sy ewige Koninkryk.  Jes.11-12 beskryf dit vir ons.

 

Haar Koning (11:1-5)

Onkunde oor die geskiedenis veroorsaak soms dat ons dink geen era in die verlede was so erg soos ons s’n nie.  Ons maak of die regering van ons kinderjare nie korrup was nie, en of hulle nie die armes onderdruk het nie.

 

Maar daar bestaan nie so iets soos ‘n perfekte regering nie.  Die enigste perfekte regering is Jesus s’n, omdat net Hý die perfekte Koning is.  Dit is waaroor 11:1-5 gaan.

 

As God die boom van Assirië afgekap het, sou dit nie weer gespruit of gegroei het nie (10:34).  Maar met Israel was dit anders.  Die Messias sou soos ‘n groen takkie uit die stomp van Isai en Dawid gespruit het (11:1, 6:13, 9:5, Mt.1:1-16, Hd.13:22-23).  Hy sou ‘n groot tak geword het wat die vrug van baie bekeerlinge gedra het (11:1, 4:2).

 

Om Hom vir sy Koninklike taak te bekragtig, sou die Gees van die Here op Hom gerus het en Hom nie verlaat het, soos Hy dit met Simson en Saul gedoen het nie (11:2, Rgt.16:20, 1 Sm.16:13-14, Mt.3:16-17, Jh.1:33).

 

Die Gees het Hom met wysheid en insig gevul, sodat Hy reg kon regeer (11:2).  Hy het Hom met raad en sterkte gevul, sodat Hy nie raadgewers en ‘n weermag nodig gehad het nie (11:2).  Deur die Gees in Hom, het Hy ‘n intieme kennis van God gehad (11:2).  Om die Vader te vrees en sy wil uit te voer was vir Hom vreugde (11:2-3).

 

Hy het nie soos ander konings op grond van die uiterlike geoordeel nie (11:3, Jh.7:24).  Met sy bonatuurlike wysheid het Hy mense se harte geken, en kon Hy hulle regverdig oordeel (11:2-4, Jh.2:24-25, Heb.4:12-13).  Hy het nie die armes onderdruk nie, maar het aan hulle geregtigheid verskaf (11:4, 10:2, Ps.72:2, 4).

 

Hy het ook die sagmoediges met bilikheid geoordeel (11:4, Mt.5:5).  Met woorde van oordeel het Hy die goddelose doodgemaak, met die roede van sy mond en die asem van sy lippe (11:4, Ps.2:9, 2 Ts.2:8, Op.19:15).  Hy het geregtigheid en getrouheid soos ‘n gordel aangetrek (11:5, Ef.6:14).

 

Om hierdie verse reg toe te pas, moet ons die eerste lesers se situasie verstaan.  Die volk en haar leiers het in sonde gelewe, en daarom het die Here belowe om haar te oordeel (hfst.1-10).  Dit was in die midde van sulke dreigemente wat Jes.11-12 aan die volk geprofeteer is.

 

In ons land gaan dinge nie veel beter nie:  Suid-Afrika se burgers en leiers is ewe korrup.  Die probleme wat ons beleef kan direk na ons sonde toe teruggelei word.  Die Here se hand rus swaar op ons.  En tog is alles nie verlore nie.  God het immers nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om ons te veroordeel nie, maar sodat mense deur Hom gered kan word (Jh.3:17).

 

Met die Messias se eerste koms was sy Koninkryk tot die Jode beperk, maar binne drie dekades daarna het dit die buitewyke van die antieke wêreld bereik (Rm.16:26, Kol.1:6, 23).  Daarna het dit na al die kontinente toe versprei, en vandag is dit in die meeste lande op aarde.  Daar is nog volke wat onbereik is, maar in die toekoms sal ook húlle in die Koninkryk inkom (Ps.72:8).

 

Moenie nalaat om hiervoor te bid en vir mense van die Koning te vertel nie (Mt.6:10).  Sê vir hulle dat hulle Hom persoonlik kan ken.  As hulle in Hom glo en vertrou dat sy kruisdood en opstanding voldoende is om hulle te red, sal Hy hulle aanneem en erfgename van die Koninkryk maak.  As hulle hulle sonde los en na Hom toe draai, sal Hy dit nie teen hulle hou nie maar hulle vergewe.  As hulle egter kies om met hulle sonde aan te hou, sal hulle die skrikwekkende gevolge moet dra (11:4b).

 

Haar vrede (11:6-9)

Toe ek ‘n student was het een van my dosente gesê dat die ‘leeu en die lam’ nie net oor die hemel gaan nie.  Ek het altyd gewonder wat hy bedoel.  Nou weet ek.

 

Die uitbreiding van die Messias se Koninkryk sal ook die diereryk beïnvloed.  Die wolf sal saam met die lam wees, die luiperd sal langs ‘n jong bokkie lê, leeus, kalwers en vetgemaakte vee sal saam wees, en volgens die opdrag in Gn.1:28 en Ps.8:7-9 sal ‘n kind hulle lei (11:6).

 

‘n Koei en ‘n beer sal saam wei; hulle kleintjies sal nuwe instinkte hê en saam in die gras lê (11:7).  Soos panda bere en vrugte vlêrmuise, sal leeus hulle skerp tande gebruik om plante te eet (11:7, Gn.1:30).  Babas en kleuters sal by ‘n giftige slang se nes speel en nie gepik word nie (11:8).  Slange sal nie meer ‘n bedreiging wees vir mense nie (Gn.3:15).

 

Mense en diere sal nogsteeds doodgaan (65:20, Rm.8:19-22).  Die Here sal egter hulle instinkte verander na wat dit voor die vloed was, sodat hulle mekaar nie meer sal doodmaak nie (11:6-9, Gn.9:2-3).  Dit sal gebeur omdat die ware kennis van God die aarde sal vul soos wat water die seebodem vul (11:9).  Die Here se heilige berg sal nie tot Jerusalem beperk wees nie; dit sal die hele aarde vul (11:9, Dn.2:35, Jh.4:20-24, Heb.12:22).

 

Jes.11:6-8 moet in die toekoms vervul word, en tog sal dit nie gebeur as ons op ons agterstewe sit en daarvoor wag nie.  Dit is nie dat ons die Koninkryk moet inbring nie, maar volgens 12:4-5 en Mt.6:10 sal die Here dit deur ons prediking en gebede doen.  Christus se Koninkryk sal kom deur die kennis van die Here wat oor die hele aarde versprei (11:9).

 

In ons evangelie-prediking moet ons vir mense sê dat die Koning oppad is, en dat Hy vir ewig sy Koninkryk op die aarde gaan vestig.  Dié mense wat hulle bekeer sal vergewe word, terwyl die rebelle in sy Koninkryk in die helse vuur gegooi sal word (Mt.13:41-42).

 

Dit is hartseer dat ons nie eintlik die evangelie van die Koninkryk met die nasies deel nie (en ek sluit myself hierby in).  Ons stuur elke maand ‘n paar rand vir sendelinge, en verwag dat húlle dit moet doen.

 

Maar hoeveel buitelanders is daar in ons dorpe en stede?  Met die lughawe naby ons, is Kempton Park multi-kultureel – die wêreld het na óns toe gekom.  Ons het die gulde geleentheid om deur plaaslike evangelisasie die evangelie van die Koninkryk na die nasies toe te vat.  Met die internet en sosiale media, kan ons deur die druk van ‘n knoppie die wêreld bereik.  Mag die Here ons traagheid vergewe en ons help om nie die groot opdrag van Mt.28:18-20 te ignoreer nie.

 

Haar mense (11:10-16)

Toe George Whitefield gepreek het, het mense in hulle tienduisende opgedaag om na hom te luister.  Die kerkgeboue waarin Spurgeon gepreek het was te klein – hy het soms vir sy lidmate gevra om by die huis te bly, sodat ander ook ‘n geleentheid kon kry om na die Woord te luister.

 

Diep in my hart begeer ek dat dit by ons moet gebeur.  Ek besef dat ek nie George Whitefield of Charles Spurgeon is nie, en dat hulle unieke gawes gehad het.  Maar sonder bekerings kan my siel nie rus nie, en joune moet ook nie.  Bid daarvoor en smag daarna.

 

Tydens die wêreldwye herlewing van 11:9, sal die nasies na die Messias vra (11:10, 2:3).  Hy sal in hulle midde rus en vir hulle rus gee (11:10, Ps.132:8, 14, Mt.11:28-30, Heb.4).  Hulle sal sy heerlikheid sien en sy teenwoordigheid begeer (11:10, 6:3, Ps.72:19, Hab.2:4).  Hulle sal daarna uitsien om saam met ander gelowiges die Here te aanbid (11:10, Ps.122:1, Sg.8:20-23).

 

Hulle sal besef dat Hy nie net ‘n mens uit die nageslag van Isai is nie, maar ook die God wat vir Isai gemaak het, die Spruit en die Wortel van Isai (11:1, 10, Mt.22:41-45, Op.22:16).  Hy sal ook ‘n banier oor al die nasies wees om te wys dat hulle deur Hom gered kan word (11:10, Jh.3:14-15, 12:32, Rm.15:12).

 

Soos Hy sy hand uitgestrek het om Israel deur die Rooi See te lei, sal Hy vir ‘n tweede keer sy hand uitstrek en die banier van die Koninkryk waai om die uitverkorene Jode en heidene uit die vier hoeke van die aarde te versamel (11:11-12, 19:23-25, 24:15, 27:13, 42:4, 45:14, 66:19, Jer.49:39, Mt.24:31, Lk.13:29, Jh.11:51-52, Hd.1:8, Rm.11:25-26).

 

Die noordelike en suidelike koninkryke van Israel sal mekaar nie meer haat of teen mekaar baklei nie, maar soos een man teen die Here se vyande veg (11:13-14, 4, Esg.37:16-24).  Wie is hierdie vyande?  Die nasies in v.14 bestaan nie meer nie, en is dus generiese name vir die Here se vyande.  Jesaja het dit so gebruik, omdat sy lesers hiermee bekend was.

 

Die nasies wat hulle aan die Here onderwerp, sal genade vind (11:14).  Na die oorlog in 11:14, sal daar nie meer oorlog wees nie, maar vrede (11:9, 2:4).  Met ‘n sterk hand sal God sy volk uit die nasies terugbring, net soos Hy hulle in die verlede uit Egipte en Assirië verlos het (11:15-16, 11).

 

Al glo jy nie presies soos ek oor die eindtyd nie, moet daar ten minste in jou hart die begeerte wees dat mense tot bekering sal kom.  En as jy bereid is om te glo dat daar in die toekoms baie mense tot bekering sal kom, sal jy daarna smag en met versugtig daarvoor bid (11:10-11, 35:10).

 

Die hoop sal soos ‘n vuur in jou hart brand.  Jy sal in jou geestesoog sien hoe baie nasies na die Here toe draai.  In vergelyking met die vervulling van Jesaja se profesie, sal die openingseremonie van die Olimpiese spele soos ‘n laerskool konsert lyk.

 

As jy hierdie hoop het, sal dit jou uitkyk op die probleme in ons land en wêreld verander, en jou help om te sien dat die oplossing nie polities of ekonomies is nie, maar geestelik.  Die oplossing se Naam is Jesus.

 

Haar blydskap (12:1-6)

Deur die geskiedenis was die Jode bekend vir hulle opstandigheid.  In die Ou Testament het hulle in die woestyn gerebelleer, en toe die Messias aarde toe gekom het, het hulle Hom vermoor.  Vandag nog is hulle daarvoor bekend dat hulle teen die Moslems veg.  Maar in die toekoms sal dit verander.

 

In die dag van Christus se Koninkryk, sal Israel dankbaar wees dat Hy sy toorn weggedraai het om hulle te troos (12:1, 10:4, Rm.3:25).  Hulle sal Hom prys dat Hy hulle verlos het, en nie meer bang wees dat Hy hulle gaan oordeel nie; hulle sal op Hom vertrou (12:2).

 

Soos in Eks.15:2 by die Rooi See, sal hulle erken dat die Here hulle lied, sterkte en verlossing is (12:2, Ps.118:14).  Met harte vol van blydskap sal hulle die leë emmer van geloof na die Messias toe bring om die lewende water van verlossing by Hom te kry (12:3, Jh.4:13-14, 7:37-39).

 

Met lofliede van blydskap en dank, sal hulle die Here se Naam aanroep (12:4-6, Gn.12:8, Eks.15:1).  Hulle sal sy heerlike Naam en dade onder die nasies bekend maak, en verkondig dat Hy – die Heilige van Israel – verhewe is in hulle midde (12:4-6, Ps.105:1).  En wanneer die Jode dít doen, sal al die nasies in die Messias glo (12:4-5, 11:9-11, Rm.11:12, 15).

 

Vandag is baie nasies en individue anti-semities:  hulle haat die Jode.  Oorkant die lughawe is daar ‘n advertensiebord wat sê:  Boycott Apartheid Israel.  Op ‘n ander advertensiebord in Edenvale sê Nelson Mandela dat ons die Palestyne se vryheid moet soek.  Die logiese implikasie is dat ons teen Israel moet wees.

 

My punt is nie dat ons vir Israel op ‘n politieke vlak moet ondersteun nie, maar eerder dat ons hulle nie moet haat nie.  Ons moenie soos baie mense in die kerk se geskiedenis téén hulle wees nie.  Aan die ander kant moet ons nie maak of hulle God se onskuldige witbroodjies is nie.  Hulle het die Messias verwerp en gekruisig, en daarom het die Here hulle aan hulle ongeloof oorgegee en hulle verhard.

 

Die Bybelse reaksie is nie om hulle te haat nie, maar om vir hulle bekering te bid, en die goeie nuus van Jesus met hulle deel as jy die geleentheid kry.  Ons moet glo dat die Here ons gebede sal verhoor en hulle tot bekering sal lei (Jes.12, Rm.11).

 

Maar selfs as die Jode en die nasies die Here dien, sal die wêreld nog nie perfek wees nie.  Sy heerskappy is perfek, maar om ‘n volmaakte wêreld te hê moet Hy weer kom en alles nuut maak, sodat daar glad nie meer sonde en dood is nie.  “Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.” (Kol.1:27).

Advertisements

‘n Toekoms van verwoesting en vrede

Knysna Fire

Toe ek 11 jaar oud was het ‘n meisie in my klas Pretoria toe getrek.  Ek het baie van haar gehou en in my bed gelê en huil toe sy weg is (‘whimp!’).  Op daardie stadium het dit vir my gevoel of dinge nooit weer sal beter word nie.

 

Ongelukkig is dit nie net 11 jariges wat so dink nie.  Selfs as volwassenes staar ons onsself blind teen die onmiddellike toekoms en mis ons God se beloftes oor die verre toekoms – ons sien nie die groter prentjie nie.  Wees daarom baie versigtig wanneer jy Jes.8:23-10:4 lees, veral as Knysna se vlamme om jou brand.

 

‘n Toekoms van vrede (8:23-9:6)

Een van my vriende het hierdie week gesien hoe ‘n klomp mense iemand aanrand.  Die man het blykbaar ‘n kind ontvoer, vermoor, en haar liggaamsdele aan ‘n toordokter verkoop.  Dit is die derde keer in twee weke wat mense sulke dinge vir my vertel, dinge wat eintlik te skandelik is om te noem (Ef.5:12).

 

In sulke tye wonder ‘n mens waarheen ons land oppad is – wat hou die toekoms in?  Glo dit of nie, maar volgens 8:23-9:6 sal Suid-Afrika en die wêreld uiteindelik ‘n vredevolle toekoms van reg en geregtigheid hê.

 

Toe Israel teen die Here gesondig het, het Hy haar in ‘n diep en benoude duisternis gedompel (8:22).  Van die twaalf stamme was Sebulon en Naftali die verste noord, en het hulle eerste deurgeloop toe die Siriërs en Assiriërs die land binnegeval het (8:23, 2 Kon.15:29, 2 Kron.16:4).  Die gebied was wes van die Jordaan rivier en die See van Galilea (8:23).  A.g.v. die Kanaäniete wat saam met die Israeliete daar gewoon het, is dit ook ‘Galilea van die heidene’ genoem (8:23, Rgt.1:30, 33).

 

Alhoewel Galilea eerste donker was, sou hulle in die laaste tyd[1] eerste die lig van God se heerlikheid in Jesus se Galilese bediening gesien het (8:23-9:1, Mt.4:12-17, Lk.1:78-79, Jh.8:12).  Ná die ballingskap het daar ‘n handjievol oorgebly, maar nou sou die Here sy volk vermenigvuldig het (9:2, 1:9, 26:15, Esg.36:37, 1 Pt.2:9, Hd.2:41, 47, 4:4, 5:14, 6:1, 7, 8:12, 9:31, 35, 42, 11:21, 12:24, 13:47-49, 14:1, 21, 27, 16:5, 31, 17:4, 12, 34, 18:8, 19:20, 28:24, Op.7:9).

 

Hulle sou so bly gewees het soos boere wat ‘n groot oes inbring en fees vier, soos ‘n weermag wat haar vyande oorwin en die buit verdeel (9:2, Hd.2:47, 8:8, 39, 11:23, 13:48, 52, 15:3, 16:31, Op.7:10).

 

Verder sou hulle bly gewees het, omdat God Assirië se swaar juk van hulle skouers afgehaal het; Hy het die stok gebreek wat hulle op die rug geslaan het (9:3, 10:5, 24, 27, 14:5, 25).  Hy het die vyand se juk gebreek soos wat Hy dit in Gideon se tyd met die Midianiete gedoen het (9:3, 10:26, Rgt.6-8).

 

Die volk was bly dat God haar vyande oorwin het (9:4).  Hulle sou nie meer klere en skoene aangetrek het om oorlog te maak nie, maar die Israeliete sou dit verbrand het (9:4, Esg.39:7).  Daar sou nie meer oorlog gewees het nie, maar vrede (2:4, Sg.9:10).

 

Die volk was ook bly dat God Immanuel gegee het om haar van haar sonde te red (9:5, 7:14, Mt.1:21).  Hy is as ‘n Kind gebore, maar was ook die Seun van God (9:5).  Die las wat Hy van die volk se skouers afgehaal het, het Hy as Koning op syne gedra (9:3, 5, 22:22, Mt.28:18, 1 Kor.15:25).

 

Jesaja beskryf sy Persoon en karakter soos volg:

 

[1] Hy is die Wonderbare Raadsman (9:5, 28:29, Rgt.13:18).  Hy het bonatuurlike wysheid om die volk te lei (vgl. 1 Kon.3:28).  Hy weet hoe om die regte woorde te sê wanneer ons dit nodig het (50:4).

 

[2] Hy is die Magtige God wat sy volk se vyande oorwin (9:5, Dt.10:17, Jer.32:18).

 

[3] Omdat Hy die ewige Vader openbaar en Een is met Hom, word Hy met Hom vereenselwig (9:5, Jh. 1:18, 10:30, 14:9).  Hy is ‘n goeie Vader vir sy kinders (9:5, 63:16, 64:8, Mal.2:10).

 

[4] Hy is die Vredevors, die oorsprong van alle vrede (9:5).  Deur sy kruisdood het Hy vir ons vrede met God gebring (Rm.5:1, Kol.1:20).

 

Namate die evangelie van vrede geleidelik oor die aarde versprei, sal die Seun van Dawid se heerskappy van vrede versprei en sonder einde wees (9:6, 6:3, 11:9, 2 Sm.7:14, Ps.72:19, 110:1, 132:11-12, 145:13, Dn.2:35, 44, Esg.47:1-5, Mt.6:10, 13:31-33, Lk.1:32-33, Op.11:15).  God se vrede, reg en geregtigheid sal die norm wees (9:6, 2:4, 11:6-9, Ps.72:7, Jer.23:5).

 

Dalk het dit in die lig van Israel se boosheid in 9:7-10:4 onmoontlik gelyk, en miskien lyk dit vir jou ook onmoontlik wanneer jy na die probleme om jou kyk:

 

  • Natuurrampe in die Kaap.
  • Korrupsie in die regering.
  • Grumoorde in ons land.
  • Grondeise in Zimbabwe.
  • Misdadigers wat nie ‘n gewete het nie.
  • Islamitiese terroriste in Engeland.
  • Skaamtelose homoseksualiteit in die NG-Kerk en in die samelewing.
  • Die toenemende rebelsheid van ons land se kinders, tieners en jongmense.
  • Wetteloosheid op die paaie.
  • Swak dienslewering en die luiheid van mense wat vir die staat werk.

 

En tog moet dit wat jy om jou sien nie jou teologie bepaal nie – die Bybel moet.  T.s.v. die boosheid van Suid-Afrika, Israel en die res van die wêreld, sal God se ywer daarvoor sorg dat Jesus se Koninkryk van vrede, reg en geregtigheid groei en gevestig word (9:6, Sg.8:6).  As die profesieë m.b.t. sy eerste koms vervul is (9:5), sal die profesieë m.b.t. die vervulling van sy Koninkryk vervul word (9:6).

 

Die vraag is nie of dit sal gebeur nie, maar of jy daarin sal deel?  Is jy nog in die duisternis van jou sonde, of het die lig van God se verlossing in jou hart geskyn (8:23-9:1, Ef.5:8, 14)?  Het jy al besef dat Jesus namens ons aan die kruis God se juk en roede op Homself geneem het, en dat dié wat in Hom glo van hulle sonde en God se oordeel bevry sal word (9:3, 53:4-6, 10, Mt.11:29-30, Jh.8:36, Gal.5:1)?

 

Of is die slawejuk en die roede van Satan, jou skuldige gewete en jou eie pogings om aanneemlik te wees voor God nog ‘n swaar las op jou skouers (9:3, Hd.15:10, Jh.8:36, Gal.5:1)?

 

Het jy al verstaan en ervaar dat Jesus vir jou sonde gebore is, en dat God Hom gegee het om vir jou te sterf (9:5)?  As jy in Hom glo om jou van jou sonde te red, sal jy persoonlik ervaar hoe Hy ook jou Wonderbare Raadsman, Sterke God, Ewige Vader en Vredevors is (9:5).

 

‘n Toekoms van verwoesting (9:7-10:4)

Op 2-5 September 1666 het die groot vuur in London 13 200 huise, 87 kerke, St. Paul’s Katedraal, en baie ander belangrike geboue afgebrand; 70 000 van die stad se 80 000 inwoners het hulle huise verloor.

 

Die vure wat tans in die Suid-Kaap woed rig ook geweldige skade aan.  Volgens sommige is dit een van die grootste rampe in ons land se geskiedenis.  In Jesaja se tyd het die Here ook sy volk met vuur en op ander maniere gestraf.

 

Voordat die Messias se heerskappy van vrede aangebreek het, het God gesê dat Hy die volk gaan oordeel (9:7).  Efraim en Samaria – Israel en haar hoofstad – sou geweet het dat God se dreigemente nie leeg is nie, maar dat Hy die hoogmoediges weerstaan (9:8, Jk.4:6).

 

Toe Samaria se moddersteen huise a.g.v. ‘n aardbewing inmekaar getuimel het (Am.1:1), het die hoogmoedige volk haar nie bekeer nie, maar besluit om dit met gekapte klip te vervang (9:9).  Gesogde sederbome sou die meer algemene wildevybome vervang het (9:9).  In die volk se gedagtes sou die toekoms dus beter gewees het as die hede.

 

Israel het veral so gedink omdat koning Resin van Sirië ingestem het om haar teen Assirië te beskerm.  Maar terwyl sy so selfversekerd was, het die koning van Assirië teen Resin opgestaan en hom doodgemaak (9:10, 2 Kon.16:9).  Israel het nie besef dat Sirië eintlik die heuning was wat die bye van Assirië na haar toe gelok het nie.

 

Soos Filistia in die weste, het Sirië in die ooste dus haar mond oopgemaak om vir Israel in te sluk (9:10, 2 Kon.16:6, 2 Kron.28:18).  A.g.v. die volk se hoogmoed, het God nie die uitgestrekte arm van sy toorn van haar af weggedraai nie (9:11, 16, 20, 10:4, 5:25).

 

Maar selfs toe Hy die volk getref het, het sy nie na Hom toe gedraai en om genade gesmeek nie (9:12).  Gevolglik het Hy die kop en die stert, die hoë palmbome en die lae riete – die belangrike politieke leiers en die vals profete – op een dag afgesny en tot ‘n val gebring (9:13-14, 19:15).  Dit was húlle wat die volk op ‘n dwaalspoor gelei het om haar in te sluk (9:15, 11).

 

Sterk jong manne, weduwees, weeskinders, almal het in woord en daad die leiers se slegte voorbeeld gevolg (9:16).  Daarom het die Here Hom nie oor hulle verbly of ontferm nie, en sou Hy die lot van hulle gestraf het (9:16).  Hy het geweier om die uitgestrekte arm van sy toorn terug te draai (9:16).

 

Die volk se boosheid was soos ‘n vuur wat in doringtakke en droë onkruid vlamvat, soos die dik rookwolke van Knysna se bosbrand (9:17).  God het vir Israel aan haar sonde oorgegee, sodat dit haar verteer het.  Die samelewing het homself vernietig (9:18, Mg.7:2).  Israel was die hout en God se toorn die skroeiende vuur wat haar gebrand het (9:18).

 

As deel van die volk se straf het sy honger gely (9:19, 8:21).  Nou was daar in een dorp vleis, en môre het hulle hulleself in ‘n ander dorp soos wilde diere aan die kos vergryp (9:19).  Daar was nie genoeg kos om hulle te versadig nie (9:19).  Die hongersnood het so erg geraak, dat mense hulle eie kinders geëet het (9:19, 49:26, Dt.28:52-57).

 

Josef se twee seuns, die stamme van Efraim en Manasse, het mekaar verslind; saam het hulle teen Juda geveg (9:20, 15, 11, 2 Kron.28:6-9, kontr. Jes.11:13).  As gevolg hiervan het God die uitgestrekte arm van sy toorn nie teruggedraai nie (9:20).

 

God het sy wee teen Israel uitgespreek omdat haar leiers die wet herskryf het om hulleself te bevoordeel (10:1).  Onder die nuwe grondwet was dit wettig om die armes te onderdruk (10:1-2).  Soos in Kommunistiese lande het hulle geen geregtigheid teen hulle klaers gekry nie, en is hulle van hulle regte ontneem (10:2).  Die land se leiers het weduwees se erfdeel by hulle weggevat en van weeskinders ‘n prooi gemaak (10:2).

 

Dus het die Here ‘n dag bepaal waarop húlle die prooi van die Assiriërs geword het (10:3).  Op dié dag sou daar vir hulle geen hulp gewees het nie (10:3).  Al wat vir hulle oorgebly het, was om saam met die ander gevangenes onder ‘n swaar juk te buig of om deur die swaard te val (10:4).  A.g.v. hulle wetteloosheid sou die Here nie die uitgestrekte arm van sy toorn teruggedraai het nie (10:4).

 

En totdat Suid-Afrika haar nie bekeer nie, sal die Here nie ophou om ons met sy kragtige hand te tref nie.  Sal ons ná die brande in Knysna nogsteeds nie na die Here toe draai nie (9:12)?

 

Sal droogte en verwoestende storms die Wes-Kaap teister, en swart mense nogsteeds die wit mense haat en andersom (9:11)?  En asof dit nie genoeg is nie, baklei God se kinders in hulle huwelike, gesinne, families en gemeentes met mekaar (9:19-20, Gal.5:15).  Hoe lank moet dit nóg aanhou voor ons vir die Here luister?

 

Hoe lank sal ons land aanhou om sonde ‘wettig’ te maak (10:1)?  Deur die wettiging van aborsie het die regering moord goedgekeur.  Dié wat vir húlle of vir die partye stem wat aborsie goedkeur, is saam skuldig – hulle hande is met bloed bevlek (1:15, 1 Tm.5:22).

 

Deur die president se veelwywery en die wettiging van homoseksualiteit (in ons land en in die kerk), het ons God se instelling van die huwelik goedkoop en belaglik gemaak.  Weet maar dat die Here ons hiervoor gaan oordeel, net soos wat Hy ons gaan oordeel omdat ons pornografie en prostitusie wettig verklaar het (10:1, Heb.13:4).

 

Ateïste probeer om God en die Bybel uit skole uit te verban; hulle wil hê dit moet teen die wet wees (10:1).  Sommige van hulle wil ook hê dat Sp.22:15, 29:15 en ander verse oor pak slae teen die wet moet wees.

 

Soos wat nie-blankes in die ou dae deur die apartheidsbeleid onderdruk is, probeer die huidige regering om die verdrukking van haar land se burgers wettig te maak.  Hulle het dit reeds tot ‘n mate deur die kwota sisteem reggekry.

 

Verder onderdruk hulle ook die volk deur onnodige belasting, sodat hulle hulle luukse karre kan ry en in hulle duur huise kan bly.  Nou probeer hulle nog om die wet te verander, sodat hulle mense se plase sonder vergoeding by hulle kan vat (10:1-2).

 

Die Here het die Israeliete gestraf toe hulle die bg. dinge gedoen het (9:7-10:4).  En dink ons dat ons daarmee gaan wegkom?

 

As ons ons bekeer, mag ons dalk nog ons huise in ‘n brand verloor.  Maar ons sal die vuur van God se oordeel in die hel vryspring en in Jesus se heerskappy van vrede deel.  Ons sal ‘n ewige toekoms van vrede hê, en nie ‘n toekoms van verwoesting nie.

 

[1] Die laaste tyd verwys nie net na die wederkoms nie, maar ook na Jesus se eerste koms (Heb.1:1, 9:26).

‘n Liefdeslied vir Jesus

Psalm 45

Die meeste liede wat jy op die radio hoor gaan oor liefde.  Dit is asof die wêreld daarna soek, maar dit nie kry nie.  En hulle sal dit ook nie kry nie, omdat dit net in die Bruidegom, Messias en Koning van Ps.45 gevind kan word.  Net dié wat met Hom getroud is, kan begin om te verstaan wat ware liefde is.

 

Die seuns van Korag het ‘n lied geskryf wat onder begeleiding van die musiekleier op die Koning se troue gesing moes word (v.1).  Dit moes op die wysie van ‘Lelies’ gesing word, omdat die mense van die dag daarmee bekend was (v.1).

 

Die Psalm se inhoud was bedoel om dié wat dit gesing en gehoor het, te onderrig (v.1).  Maar omdat dit ‘n liefdeslied was, moes hulle dit nie as koue feite geleer het nie (v.1).  ‘n Diep liefde vir die koning moes hulle harte gevul het; dit moes selfs trane in hulle oë gebring het (v.2).

 

Vir die psalmis was dit so (v.2).  Hy kon dit nie meer inhou nie, maar moes met elegante woorde sy emosie op papier gesit het en dit aan die Koning voorgedra het (v.2).

 

Hierdie lied is op verskeie konings se troues gesing, maar uiteindelik is dit in die Messias vervul.  Sekere dele daarvan kan op geen aardse koning toegepas word nie (bv. v.7-8), terwyl daar ander elemente is wat nie vir die Messias geld nie (bv. die prinsesse en bruidsmeisies in v.10, 15).  Die res van die Skrif sal ons help om die Psalm reg te interpreteer en toe te pas.[1]

 

Die Bruidegom (v.3-10)

In ons kultuur wag almal vir die bruid wanneer daar ‘n troue is.  Maar in die ou Joodse kultuur was dit nie so nie, veral nie by die koning se troue nie.  Die fokus was op die koning; dit was sý groot dag.  Mense het hom dikwels as die mooiste en aantreklikste man in die land beskou (1 Sm.9:2, 16:12, 18).

 

By Jesus se eerste koms was Hy nie aantreklik nie (Jes.53:2), maar toe Hy in die hemel verheerlik is was Hy die aantreklikste van almal, die skoonste uit 10 000 (v.3).

 

As Hy gepraat het, was die woorde van sy lippe vol van genade; Hy het bemoedigende en opbouende woorde gepraat (v.3, Sp.22:11).  Die genade in sy woorde het gewys wat in sy hart was, en daarom het God Hom vir ewig geseën (v.3, Mt.12:34).

 

Hy was ‘n Magtige Held op sy perd wat met die swaard sy vyande oorwin het (v.4-5, Ps.24:8, Jes.9:5, 49:2, Heb.4:12, Op.1:16, 6:2, 19:11, 15, 21).  Hy het geveg om waarheid, ootmoed [Eng. ‘meekness’] en geregtigheid te bevorder, en nie omdat Hy bloedlustig was nie (v.5).

 

Sy plan was om valsheid en bedrog in die nek te slaan, om diktators tot ‘n val te bring, en om die leeu van ongeregtigheid dood te skiet (v.5).  Sy sterk regterhand sou hiervoor gesorg het (v.5).  Sy vyande sou vreesbevange gewees het vir die swaard in sy regterhand (v.5, 4).

 

Hy was ook ‘n dodelike skut wat met een skoot sy skerp pyle in hulle harte getref het (v.6).  Al die volke sou voor Hom geval het, totdat Hy al sy vyande aan sy voete onderwerp het (Ps.110:1-2, 5-6).  In al hierdie dinge het Hy sy Koninklike heerlikheid en majesteit gewys (v.4-5, Jud.25).

 

Die rede hoekom Hy sy vyande so maklik oorwin het, is omdat Hy nie net ‘n mens was nie, maar God op die troon (v.7).  En omdat Hy God was, sou Hy en sy troon vir ewig bestaan het (v.7, Dn.2:44, 7:14, Lk.1:33, Heb.1:8-12).  Daar sou geen opvolger tot die troon gewees het nie.  Met sy septer sou Hy vir ewig in geregtigheid regeer het (v.7).  Hy het dit immers liefgehad en goddeloosheid gehaat (v.8, 11:7).

 

Om hierdie rede het God Hom gesalf om die Messias te wees (v.8).[2]  Volgens die psalmis het God vir God gesalf (v.8).  Daar is net een God (Dt.6:4), maar uit v.8 is dit duidelik dat daar meer as een Persoon in die Godheid is (Mt.3:16-17, 28:19, Ef.4:4-6).

 

Toe die Messias sy aardse bediening begin het, het God Hom gesalf en vir sy werk afgesonder (v.8, vgl. 1 Sm.16:13).  Hy het Hom met vreugde-olie gesalf (v.8).  Wat beteken dit?

 

Die olie is simbolies van die Heilige Gees wat Hom vir sy taak bekragtig het (Lk.3:22, 4:18, Jh.1:33, Heb.1:9).  Die vreugde-olie verwys na die Vader se tevredenheid met die Seun, sodat Hy Hom gesalf het om die Messias te wees (v.8, Mt.3:17).  Vir die Vader was Hy ver verhewe bo die res, en was daar niemand anders op die lys van moontlike kandidate nie (v.8).

 

Sy klere het soos parfuum geruik wat van mirre, aalwyn en kassie gemaak is (v.9, vgl. Eks.30:23-24, Sp.7:17).  Mirre was afkomstig van ‘n sekere soort Arabiese balsamboom.  Die boom se geurige rooi-bruin gom is uitgedroog en tot ‘n fyn poeier gemaal.  Ons almal weet wat aalwyn is.  Kassie kom van ‘n geurige boombas af.[3]  Toe die Messias met hierdie geurige mengsel gesalf is, het dit tot op sy skouers afgeloop, sodat Hy lekker geruik het vir sy troudag (v.8-9, vgl. Ps.133:2).

 

Die troue is gehou in paleise wat uitgelê is met ivoor (v.9, vgl. 1 Kon.22:39).  Daar was ook musikante wat met snaarinstrumente by die troue gespeel het (v.9, 33:2, 150:3-4).  Die Koning was wêreld-beroemd, sodat die dogters van konings as eregaste na sy troue toe genooi is (v.10).

 

Die koningin – die kerk volgens Ef.5:32 – het die ereplek aan sy regterhand ingeneem (v.10, vgl. 1 Kon.2:19, Ef.2:6).  Haar trourok is van Ofir se kwaliteit fyngoud gemaak (v.10, Job 28:16, 1 Kon.10:11).  So het sy die Koning se rykdom en heerlikheid weerspieël (2 Kor.3:18).

 

Die Bruid (v.11-18)

Geen fees in ons kultuur is so groot soos ‘n troue nie.  Bittermin mense nooi bv. 150 of 200 mense na hulle verjaarsdae toe.  Ek ken ook nie iemand wat so baie mense na sy of haar huis toe nooi vir Kersfees nie.

 

In die Bybelse kultuur was dit dieselfde, en wanneer Jesus terugkeer sal dit weer so wees.  Ps.45 gee vir ons ‘n idee van hoe groot, ryk en belangrik hierdie fees sal wees.

 

Die Koning het in v.11 vir die koningin gesê dat sy ‘n nuwe lojaliteit gehad het.  Om by Hom te wees, moes sy haar volksgenote en ouerhuis verlaat het (Gn.2:24, 24:58).  Hy moes vir haar belangriker gewees het as haar familie (v.11).

 

As sy dít gedoen het, sou Hy haar skoonheid begeer het (v.12).  Haar toewyding en onderdanige eerbied waardeur sy Hom Here genoem het, was vir Hom belangriker as haar goue rok en uiterlike skoonheid (v.10-12, 95:6, Jes.54:5, 1 Pt.3:3-4, Op.19:7-8, 21:2).

 

Hy was so verhewe, dat ‘n skatryk stad soos Tirus haar skatte aan sy voete kom neerlê het (v.13, Ps.72:10, Jes.49:7, 60:6-7, Mt.2:11, Op.21:24, 26, vgl. Esg.26-28).  Hy het van die skatte vir sy aanstaande gegee, sodat sy haarself daarmee versier het (v.14).  Die prinses van v.14 was oppad om die koningin van v.10 te word.  Haar veelkleurige trourok was met dun goue draad deurweef (v.14-15, 10, vgl. Gn.37:3).

 

Die bruidsmeisies het agterna geloop toe die prinses na die Koning toe gelei is (v.15).  Hulle was bly toe sy by die Koning aangekom het (v.16, Gn.2:22, Jh.3:29, 2 Kor.11:2).  ‘Die Koning sal baie kinders hê; hulle sal saam met Hom oor die land regeer!’ het hulle gesê (v.17, Heb.2:10, 13, Op.5:10).

 

Maar al het hulle so van sy kinders gepraat, sou Hy alleen deur die nasies geprys word en vir ewig onthou word (v.18, 22:31-32, 145:4, Jes.59:21, 1 Kor.11:26, Op.5:9).  Hy was nie net die Messias van die Jode nie, maar van die hele wêreld.

 

As Hy dan moeite gedoen het om sy troue onder die nasies aan te kondig, moet jy moeite doen om dit by te woon.  Moenie op die gratis en ewige feesmaal van die hemel uitmis, omdat jy flou verskonings gehad het vir hoekom jy nie daar kan wees nie (Lk.14:18-20).  Moenie soos sommige mense sê:

 

  • ‘Ek wil my kinders en kleinkinders geniet terwyl hulle nog jonk is, en het nie nou tyd om oor die hemel te dink nie – ek sal dit doen wanneer hulle uit die huis uit is.’
  • ‘Ek het dinge wat ek in die lewe wil bereik, en sal later die hemel oorweeg. Ek wil eers geld maak, my jongmens lewe geniet, die wêred sien en trou.  As ek dit klaar gedoen het, sal ek dink oor wat Jesus gesê het.’
  • ‘My lewensmaat en kinders stel nie belang in geestelike dinge nie. As ek heeltyd oor die Here praat, sal ek hulle verloor.  Dalk moet ek wag dat hulle tot bekering kom, gedoop word, by die kerk aansluit en die Here volg.  Dit sal beter wees as ons dit saam doen, en daarom sal ek ‘n bietjie wag.’
  • ‘Die Here het my kind van my af weggevat. Die kerk het my seergemaak.  Die ds. het my nie besoek toe ek in die hospitaal was nie.  Hoekom moet ek dan die Here dien?’
  • ‘Ek werk 14 ure per dag. Om nog op ‘n Sondag my gesin se tyd te steel en in die kerk te sit werk nie vir my nie.  Wanneer ek die dag aftree sal ek oor die Here en die lewe hierna dink.’

 

Op grond van Jesus se woorde in Lk.14:26, 33 wil ek vir jou sê:  ‘Toemaar, moenie jou tyd mors nie.  As jou lewe, persoonlike gemak, jou huweliksmaat, jou kinders, familie, rykdom, werk, toekomsplanne of enigiets anders vir jou belangriker is as Jesus, moet jy Hom nie volg nie.’

 

Volgens v.11 vereis die Koning sy bruid se totale toewyding.  Hy stel nie belang in ‘n bruid wat in haar hart wens dat daar ‘n ander prins op ‘n wit perd na haar toe sal kom nie.  Hy weier om met self, geld, plesier en die afgode wat in ons harte is, te kompeteer (Jk.4:4-5).

 

As ons egter ons lewens aan Hom wy, sal Hy die volle rykdom van sy liefde aan ons openbaar.  Ons sal sy heerlike skoonheid bewonder en bevoorreg voel dat Hy ons gekies het om sy bruid te wees (v.3, 2 Ts.1:10).  Hy sal sagte woorde vir jou sê om jou te bemoedig in die swaarkry wat jy in hierdie wêreld moet deurmaak (v.3, Jes.50:4, Lk.4:22, Jh.1:14, 16-17, 7:46).

 

Hy sal veg om jou teen Satan en die wêreld se aanvalle te beskerm, en het dit eintlik reeds tot die dood toe gedoen toe Hy aan die kruis gehang het (v.4-6, Jh.12:31, 16:33, 1 Jh.3:8, 5:4).

 

Hy sal jou geestelike armoede in rykdom verander, en die lelike eendjie van jou sonde in ‘n beeldskone en weelderige bruid verander; Hy sal vir jou die waardigheid gee wat jy nie in jouself het nie; Hy sal aan jou ‘n ereplek in sy teenwoordigheid gee, sodat jy nie die lof van mense hoef te soek nie (v.10, 13-15).

 

Alles wat jy nog ooit in hierdie wêreld begeer het, kan nie met daardie dag vergelyk word nie.  Dit sal soos die lekkerste troue wees wat al ooit bygewoon het, en dit sal nie ophou nie.  Dit sal nie ‘n huwelik wees wat op die wankelrige fondasie van Hollywood se romanse gebou is, sodat dit soos húlle s’n in die skeihof eindig nie.  Dit sal eerder gebou wees op die rotsfondasie van Jesus Christus se ewige liefde, karakter, verbond en beloftes.

 

Die groot vraag is of jy daar sal wees?  Sal jy die enigste perfekte Bruidegom ontmoet en vir ewig saam met Hom in sy hemelse paleis woon?  Sal die dapper Koning op sy perd as ‘n vriend of ‘n vyand na jou toe aangery kom?

 

Sal die pyle van sy toorn jou hart penetreer en laat bars, omdat jy nie heiligheid liefgehad het en goddeloosheid gehaat het nie (v.8, 97:10)?  Sal Hy sy skerp swaard deur jou siel dryf, omdat jy vir jouself gelewe het en nie vir Hom wat die asem in jou longe, en elke ander goeie gawe vir jou gegee het nie?

 

Hoekom praat jy nie liewer vandag nog dinge met Hom uit nie?  Hy is baie gawer as wat jy dink, en sy liefde vir jou is baie groter as wat jy besef.  Dit is soos ‘n oseaan waarvan die water verdamp en in reënwolke verander.  Die wind van sy Gees waai dit na jou lewe toe, en veroorsaak dat dit in emmers oor die riviere van jou hart reën (Rm.5:5).

 

Wie kan dan keer dat hierdie riviere van liefde vir Jesus terugvloei na die oseaan van sy liefde toe waar dit begin het?  Jou liefdeslied vir Jesus is eintlik maar net ‘n eggo van die liefdeslied wat Hy eerste gesing het.  “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” (1 Jh.4:19).

 

[1] Al kan ons nie elke detail op die Messias toepas nie, maak ek deurgaans van hoofletters gebruik wanneer ek van die Koning praat.  Die Psalm het immers hoofsaaklik betrekking op die Messias.

[2] Messias beteken ‘gesalfde’.

[3] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywings onder ‘myrrh’, ‘aloes; lignaloes’ en ‘cassia’.

Laat U Koninkryk kom

’n Siening oor die eindtyd wat jou lewe kan verander

mighty-river

Soos jy seker weet kom my tema uit die Onse Vader uit. Wat beteken dit om te bid dat God se Koninkryk sal kom?  Natuurlik beteken dit dat ons vir die wederkoms moet bid (is daar iets groter as dit?).  Maar oor die afgelope paar jaar het ek besef dat dit nóg iets beteken.  Ek hoop dat die waarheid hiervan in Op.11:15-19 vir jou so revolusionêr sal wees soos wat dit vir my was.

 

God se Koninkryk (v.15)

Het jy al gehoor van die lewegewende fontein wat uit die berg uitstroom? Dit loop teen die rotse af en word later ‘n rivier wat deur ‘n groen vallei vloei.  Op plekke is die rivier bruin, breed en vlak, en op ander plekke is dit donker blou, smal en diep.  Waar die rivier naby die see uitmond is dit 100 km breed.  Uiteindelik vloei dit in die see in, sodat daar net water is so ver as wat die oog kan sien.

 

Hierdie fontein, rivier en see is die Koninkryk van God. Dit het as ‘n kristalhelder stroom by die kruis begin.  By sy oorsprong het die fontein van die Koninkryk uit 12 apostels en paar ander dissipels bestaan.  Dit het egter baie vinnig ‘n rivier van 3000 en toe meer as 5000 bekeerlinge geword (Hd.2:41, 4:4).  Binne ‘n paar dekades het die rivier het deur die hele Romeinse Ryk gevloei en nuwe lewe gegee vir tienduisende sondaars.

 

In die eerste twee of drie eeue wat gevolg het, het meer as ‘n miljoen mense hierdie rivier se lewegewende water kom drink. Met tye in die kerk se geskiedenis het die rivier as gevolg van vals lering en sonde, bruin en vlak gevloei.  Soms was die rivier diep en blou, omdat dit gesond was.  Maar dit was smal, omdat mense nie regtig in die kerk belanggestel het nie.

 

Vandag vloei die rivier nogsteeds. Dit het gegroei van ‘n bergstroompie wat uit ‘n paar dissipels bestaan het, tot by honderde miljoene gelowiges dwarsoor die wêreld wat soos bome langs die rivier se walle staan.  As die rivier naby aan die einde van die geskiedenis kom, sal dit sy walle oorstroom soos die Okavango Delta in Botswana.  Oral waar dit kom sal dit lewe gee, sodat dit die woestyn van die wêreld in ‘n paradys sal verander (Jes.35, Esg.47:1-12).  Die meerderheid van die wêreld se bevolking sal die Here ken:  “die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek.” (Jes.11:9).  By Jesus se wederkoms sal die rivier van God se Koninkryk in die see inloop.  Die ganse aarde sal vir ewig en altyd onder Jesus se voete wees.

 

Dit is hoe ek God se Koninkryk verstaan. Dit het as ‘n stroompie uit die berg van Golgota ontspring.  Dit word groter soos wat die geskiedenis vorder.  Dit sal sy walle oorstroom in ‘n magtige herlewing wat tot die bekering van die nasies sal lei.  Dit sal in die see invloei wanneer Jesus weer kom.  Kom ek wys vir jou waar in die Bybel ek my idees vandaan kry.

 

In hfst.8 het God vir die sewe engele trompette gegee om sy oordele aan te kondig. Die eerste ses engele het in hfst.8-9 op hulle s’n geblaas, en nou het die sewende engel op syne geblaas om God se Koningskap aan te kondig (v.15-19, vgl. 1 Kon.1:34).  Toe hy dit gedoen het was daar harde stemme wat uitgeroep het dat God se Koninkryk gekom het (v.15, 12:10).  Hoe moet ons dit verstaan?

 

In Ps.2 het God die nasies tot aan die eindes van die aarde as sy Gesalfde Seun se erfdeel gegee. Wanneer sou Hy dit ontvang het?  Om die erfporsie te kry moes die testamentmaker gesterf het.  Toe Jesus dus aan die kruis gesterf het, het Hy die nasies met sy bloed gekoop (5:9).  Hulle het sy eiendom geword (v.15).

 

Voor dit het hulle vir die duiwel geluister en hulleself aan hom onderwerp (Lk.4:5-6). Maar deur die kruis het Jesus vir Satan vasgebind en is Hy besig om die nasies by hom terug te vat (Mt.12:28-29, Jh.12:31, 16:11).  Die Vader het vir Jesus mag oor die nasies gegee, en die titel-akte van die Koninkryk in sy Naam geregistreer (v.15, Mt.28:18, Lk.22:29).  Jesus het in ‘n wolk opgevaar hemel toe om die titel-akte te ontvang (5:1-7, Dn.7:13-14).  Hy wag nie om eers in die toekoms bekroon te word nie, maar het onmiddellik as Koning aan die Vader se regterhand gaan sit (Ef.1:20-22).  Reeds toe Hy op die aarde was het Hy gesê dat die Koninkryk op hande was (Mt.3:2, 4:17, 10:7, 12:28, Lk.10:9, 11, 17:20-21).

 

Op papier behoort die nasies dan aan Jesus, maar in die praktyk loop baie van hulle nog agter die duiwel aan (2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19). En tog sal dit nie vir ewig so bly nie.  Bietjie vir bietjie is Jesus besig om dít wat na regte syne is (Mt.28:18) by die duiwel terug te vat (Mt.28:19).  Sy Koninkryk is soos ‘n rots wat op die standbeeld van groot en magtige wêreldryke geval het.  Hy het die Babiloniese, Persiese, Griekse en Romeinse ryke verpletter.  Nou is die Rots van sy Koninkryk besig om te groei, totdat dit ‘n groot berg sal word wat die hele aarde vul (Dn.2:35, 31-45).  Jes.9:6 praat van die vermeerdering (‘increase’ in die ESV) van sy heerskappy.

 

Toe Jesus die titel-akte ontvang het, het Hy die sandkorrel-grootte mosterdsaadjie van die Koninkryk in die tuin van die wêreld geplant, en het Hy die teelepel gis van die Koninkryk in die deeg van die nasies in geknie (Mt.13:31-33). Die Koninkryk het klein begin, maar is besig om te groei en sal uiteindelik die wêreld oorneem (Ps.72:8).  Uit die vier windrigtings sal die nasies instroom om vir Jesus te aanbid (Ps.2, Lk.13:29).  Van waar die son in die ooste opkom tot waar dit in die weste ondergaan sal die nasies en hulle konings vir Jesus as die groot Koning prys (21:24, Ps.72:11, 113:3, Jes.49:7, Mal.1:11).  Omdat Hy nie kan sterf nie, sal Hy nie soos aardse konings ‘n opvolger hê nie; Hy en die Vader sal vir ewig regeer (v.15, Eks.15:18, Ps.145:13, Dn.2:44, 4:3, 34, 7:13-14, Lk.1:33).

 

God se koms (v.16-18)

Die ou Afrikaanse Baptiste het ‘n siening oor die eindtyd gehandhaaf wat tipies was van die Suidelike Baptiste in Amerika. Die meeste van ons is hiermee bekend, omdat dit nogsteeds ‘n baie populêre siening is.  Twee van my beste vriende handhaaf hierdie siening, en ek is seker dat ‘n klomp van my lesers en hoorders dit glo.

 

Dié siening sê dat Jesus se Koninkryk eers sal aanbreek wanneer Hy weer na die aarde toe terugkeer. Ek het reeds gewys dat Jesus se Koninkryk by sy eerste koms weggespring het, en dat dit by sy tweede koms vervul sal word en oor die wenstreep sal hardloop.  In v.16-18 sien ons hoe Johannes die twee bymekaar bring.

 

God en die Messias se Koningskap was so hoog verhewe, dat selfs die 24 ouderlinge van hulle trone afgeklim het om Hom te aanbid (v.16, 4:4, 10, Kol.1:16). Hulle het Hom as die Almagtige Here en God gedank en aanbid (v.17).  In 1:8 en 4:8 het Johannes Hom beskryf as die Een wat is en wat was en wat kom.  In 11:17 het hy ‘wat kom’ uitgelos, omdat die Koninkryk in die eerste eeu reeds in sy begin stadium gekom het (Mt.10:23, 16:28, vgl. notas hierbo).  Die 24 ouderlinge het dit bely toe hulle gesê het dat God deur sy groot mag begin het om te heers (v.17, ESV, Gk.).[1]  Hy sal regeer tot by die wederkoms en vir ewig daarna.

 

Die nasies wat nie die knie wil buig nie, maar in hulle woede teen Hom wil opstaan, sal sy toorn voel en verpletter word (v.18, Ps.2:1-12, 110:5, Hd.4:25-27). Hulle sal baie gou agterkom dat sy toorn sterker is as hulle s’n (v.18, Ps.2:1, 5).  By Jesus se eerste koms het hulle Hom nie as die Koning erken nie (v.15-17).  Daarom sal Hy hulle by sy tweede koms uit die dood uit opwek en hulle oordeel (v.18, Op.20:12).[2]  Hy sal dié wat verwoesting gebring het, vir ewig in die hel verwoes (v.18, 2 Ts.1:6-7, 9).  Dan sal hulle die knie moet buig en erken dat Hy die Here en Koning is (Fil.2:10-11).

 

Vir God se kinders is die oordeelsdag nie iets om voor bang te wees nie, omdat Hy hulle gaan beloon en nie gaan oordeel nie (v.18, 22:12, Mt.10:41-42, 25:14-30, Lk.6:22-23, 12:33, Jh.5:24, Rm.8:1, 1 Kor.3:12-15, 2 Kor.5:10, 2 Jh.8, Jud.24). Hy gaan nie net profete en predikante beloon nie, maar almal wat sy Naam vrees, liefhet en respekteer – klein en groot (v.18, Ps.115:13).

 

God se tempel (v.19)

Iemand het vir my kinders ‘n boek gegee wat vir ‘n mens leer om goed te teken. Wanneer jy bv. ‘n dolfyn teken wat uit die water uitspring, leer die boek vir jou om verskillende grootte sirkels en ovale te trek.  Later voeg ‘n mens driehoeke by, en uiteindelik teken jy die buitelyne en die oë.  Heel laaste voeg jy skadu en kleur by.

 

Sal dit vir jou vreemd wees as iemand meer van die ovale, driehoeke en sirkels hou as van die finale produk? En tog is baie mense so wanneer dit by die eindtyd kom.  Die tempel met sy priesters, offers en meubels was maar net ‘n skadubeeld van die volheid wat daar in Christus gekom het (sien Hebreërs).  Dit sal baie vreemd wees as die vervulling van hierdie dinge in Christus weer vir die skadubeelde verruil word.  Op.11:19 wys juis vir ons dat die aardse tempel tot ‘n einde gekom het, en dat dit met ‘n geestelike tempel vervang is.  Ons wag dan nie vir ‘n herboude kliptempel in die toekoms nie.

 

Johannes het gesien hoe God se tempel in die hemel oopgegaan het (v.19). Omdat die aardse tempel op ‘n einde was, het die hemelse een oopgegaan.  Johannes het die goue ark van die verbond binne-in die Allerheiligste van die tempel gesien (v.19).  Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God die tempelgordyn wat voor die ark was van bo na onder geskeur (Mt.27:51).  In 70 n.C. het Hy die Romeine Jerusalem toe gestuur om die aardse tempel te verwoes.

 

Die les is dat dit nie net meer die hoëpriester was wat voor die Here kon kom nie. Deur Christus kon almal nou in God se heilige teenwoordigheid ingekom het (Heb.4:15-16, 10:19-22).  Toe God die aardse tempel deur die storm van sy oordeel verwoes het (v.19b), het Hy ‘n nuwe tempel opgerig:  die Jode en heidene wat in die Messias geglo het, was sy nuwe tempel (v.19a, 1, 1 Kor.3:16, Ef.2:11-3:9).

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Lewe soos iemand wat glo dat Jesus Koning oor die nasies is, en dat Hy uiteindelik oor elkeen van hulle sal regeer (v.15, Ps.2:8-12).  Moenie aan ‘n pessimistiese eindtyd-siening vashou wat sê dat die Verenigde Nasies, die Europese Unie, Rusland of die Moslems die wêreld sal oorneem nie.  Moenie moedeloos en vreesbevange raak oor die politieke onstuimighede in ons land en wêreld nie.

 

Dink eerder daaraan dat Jesus die Koning van die konings en die Here van die here is (19:16). Hy is die Koning van die nasies wat volke se leiers aanstel en afsit (v.15, Ps.22:29, Dn.2:20, Rm.13:1).  Hý sal besluit wanneer die Nasionale Party sy asem uitblaas, wanneer die ANC aan bewind kom, wanneer Mandela doodgaan, wanneer Mbeki uitgewerk word, wanneer Zuma regeer en of Malema tot ‘n val gaan kom of nie.

 

Dit lê dan nie binne die president se mag om te besluit of die ANC sal regeer totdat Jesus weer kom of nie. Jesus is die Koning wat besig is om sy planne uit te werk.  Hý beheer die geskiedenis van volke en hulle konings (Sp.21:1, Dn.4:35).  Daarom moet ons nie lewe asof die antwoord by ‘n sekere politieke party of leier lê nie.  Ons moenie lewe asof Donald Trump die wêreld se probleme gaan oplos nie.  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die Here.” (Sp.29:26).

 

Onthou asb. dat Jesus se Koninkryk geestelik en nie polities van aard is nie.  Jesus het gesê:  “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie.  Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (Jh.18:36).  Die kerk moet dan op die verspreiding van die evangelie fokus, en nie op sosiale en politieke aksies nie.

 

Deur die eeue het die kerk haar fokus verloor, sodat sy die regering se rol ingeneem het en betrokke geraak het in oorloë, die invordering van belasting, die toepassing van die doodstraf op ‘ketters’, politiese samesprekings met ander lande, sosiale aksies wat niks met die redding van mense se siele te doen het nie, die daarstelling van politieke wette, en allerhande ander twak. In die proses het die kerk haar plig versuim om die evangelie aan die nasies te verkondig.

 

Vandag nog is die kerk in ons land skuldig aan dieselfde sonde. Ons het die swart mense gefaal, omdat ons die evangelie het, maar nie ‘n daadwerklike poging aangewend het om dit by hulle uit te bring nie.  Sendelinge moet van oorsee af kom om die werk te doen.  Ons fokus meer daarop om kermisse te hou en komberse uit te deel, as om die evangelie met mense te deel.  Ons spandeer duisende rande aan vermaaklikheid wat jong mense sal trek, maar gee dan vir hulle ‘n oppervlakkige boodskap wanneer hulle by die kerk opdaag.

 

Ons gemeente, denominasie en ek self is nie onskuldig nie. Wat het ons in die afgelope twee jaar gedoen om vir mense van ons groot en goeie Koning te vertel?  Hoeveel geld het ons op denominasionele- en gemeentevlak uitgegee om toe te sien dat mense die Goeie Nuus van Jesus Christus hoor?  Hoe gaan ons in die komende jaar hierop verbeter?

 

As ons die evangelie effektief gaan verkondig moet ons hoopvol, vrymoedig en dapper wees. Ons moet getuig asof Jesus die Koning is wat vereis dat die nasies voor Hom moet buig, asof hulle reeds syne is en Hy nog net hulle harte na Hom toe moet draai.  Die evangelie kan nie kop-onderstebo of stert-tussen-die-bene na Jesus toe terugkeer nie, en daarom moet ons uitgaan met die vertroue dat die evangelie suksesvol sal wees.

 

“Jou God is Koning!” is wat ons vir die mense moet sê (Jes.52:7). As hulle die knie in geloof en bekering voor Hom buig, sal Hy hulle vergewe.  Maar as hulle volstrek weier om die wit vlag te waai, sal Hy hulle vernietig (v.18, Ps.2:9-12).  Dit is tyd dat ons wegdoen met die benadering wat maak asof Jesus hulpeloos moet wag vir sondaars om hulle harte vir Hom te gee.  Jesus eis van jou dat jy weergebore moet word en dat jy jou moet bekeer, want “as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Jh.3:3).

 

Wat Paulus vir die Korintiërs gesê het geld ook vir ons: “Moenie dwaal nie!  Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” (1 Kor.6:10).

 

Laat ons dan met ‘n berouvolle hart voor die Here buig en Hom as ons Koning aanbid (v.16). Laat ons vir die verspreiding van die evangelie en vir ‘n ware herlewing bid, sodat die nasies (ook ons eie land) Jesus as die Koning sal erken en aanbid.  Laat ons bid dat Jesus weer na die aarde toe sal terugkeer, sodat ons vir ewig onder sy goeie en regverdige heerskappy kan lewe.  Laat ons nie vergeet om te bid volgens die patroon wat Jesus vir sy dissipels geleer het nie:  “laat u koninkryk kom” (Mt.6:10).

 

My gunsteling aanhaling van Spurgeon (wat ek seker al holrug gery het!) sluit mooi hierby aan: “if our Lord does but stamp His foot, He can win for Himself all the nations of the earth against heathenism, and Mohammedanism, and Agnosticism, and Modern-thought, and every other foul error.  Who is he that can harm us if we follow Jesus?  How can His cause be defeated?  At His will, converts will flock to His truth as numerous as the sands of the sea.”[3]

 

[1] A.T. Robertson, Word Pictures in the New Testament, nota op Op.11:17

[2] Sommige dink dalk dat dit nie geldig is om tussen v.17 en 18 van Jesus se eerste na sy tweede koms toe te spring nie. Maar doen die Ou Testament profete dit nie dikwels nie (sien bv. Jes.11:1-9)?  Buitendien het ek reeds gewys hoe die Koninkryk reeds by Jesus se eerste koms begin het, en hoe dit stadiger maar seker besig is om te groei totdat Hy weer kom.

[3] C.H. Spurgeon, An All-Round Ministry, p.396