Wat verwag die Here van jou?

Oor bekering, doop en kerklidmaatskap

baptism-and-membership

Dit is aaklig om nie te weet wat jou baas, afrigter, familielid of onderwyser van jou verwag nie. Dit voel alewig asof hulle kwaad is vir jou.  ‘Het ek dit reg gedoen?’ wonder jy.  Maar jy weet nie, omdat hulle nie vir jou sê nie.  Gelukkig is die Here nie so nie:  Hy sê presies wat Hy van jou verwag.  In Hd.2:37-41 sê o.a. wat Hy van jou verwag m.b.t. bekering, die doop en kerklidmaadskap.

 

Die Jode se vraag (v.37)

Het jy al ooit ‘n preek gehoor waarin dit vir jou gevoel het of die Here net met jou praat?  Was dit dalk ‘n preek waarin die Here jou hart blootgelê het, sodat dit vir jou gevoel het of iemand vooraf vir die prediker van jou situasie vertel het?  Ek het al so ‘n preek gehoor.

 

En in Hd.2 het Petrus se hoorders so ‘n preek gehoor. Sy woorde het soos ‘n mes in die Jode se harte ingesny (v.37).  ‘Julle het Hom gekruisig,’ het hy in v.23, 36 vir hulle gesê.  Die Gees wat in v.1-3 uitgestort is het hulle daarvan oortuig dat hulle die Here en langverwagte Messias gekruisig het (Jh.16:8, 1 Kor.2:8).  Nou wou hulle dinge reggemaak het, maar hulle het nie geweet hoe nie.  Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra:  ‘Wat moet ons doen, broers?’ (v.37).

 

Petrus se antwoord (v.38-39)

As ‘n sportspan baie goed is, is daar min mense wat ‘n neutrale gevoel teenoor hulle het: òf jy hou baie van hulle, òf jy haat hulle.  En hoeveel te meer is dit nie so m.b.t. Jesus nie?  Jy kan nie neutraal wees teenoor die ware Jesus van die Bybel nie:  as jy nie vir Hom is nie, is jy teen Hom (Mt.12:30).

 

Dít is wat Petrus in hierdie verse onder die Jode se aandag wou bring. Daar was net een manier vir hulle om reg te wees met God:  hulle moes hulle bekeer het – veral daarvan dat hulle die Messias verwerp en gekruisig het (v.38, 22-36).  Hulle moes geglo het dat Jesus se wonderwerke, kruisdood en opstanding bewys het dat Hy die Messias is (v.22, Ps.16, 22, 110, Jes.35, 53, 61).  As hulle hulle bekeer het, sou Hy hulle op grond van hierdie selfde kruisdood vergewe het (v.38, Lk.24:47).

 

Saam met die bekering en vergifnis het die doping met die Gees gegaan. Dié wat hulle bekeer het, sou ook onmiddellik die gawe van die Heilige Gees ontvang het (v.38, 1:5).  “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” (Rm.8:9).  Sonder die Heilige Gees kan ons nie Christus se nuwe lewe in ons hê nie (Tit.3:5-7).  Dit is ook deur Hom wat Christus ons in die gemeente inlyf (1 Kor.12:13).

 

Om hierdie bekering, vergifnis en doping met die Heilige Gees uit te beeld, moes die Jode in die Naam van Jesus Christus met water gedoop word (v.38, 10:47, 22:16). Dit is nie dat die doop iets tot hulle redding bygedra nie (Ef.2:8-9).  In die tyd van die Nuwe Testament is mense gedoop op die dag wat hulle tot bekering gekom het (v.41).  Daarom het Petrus bekering, die doop, vergifnis en doping met die Heilige Gees in een pakkie toegedraai (v.38).

 

Jesus se belofte van die Heilige Gees (Jh.14, 16) was nie net vir die Jode in Petrus se tyd nie, maar ook vir hulle kinders en vir die heidene wat in ver lande gebly het (v.39, 22:21, Jes.44:3, 59:19, Ef.2:11-13). Die Gees sou na dié toe gekom het wat die Here na Homself toe geroep het.  Hulle sou sy roepstem in hulle harte gehoor het:  ‘Staan op uit die graf van jou sonde; maak jou blinde oë oop om die waarheid van Jesus se kruisdood en opstanding te sien!’ (v.39, Joël 2:32).

 

Petrus se pleidooi (v.40)

Hiper-Calviniste glo dat ‘n mens nie vir ongelowiges mag sê om hulle te bekeer en in Jesus te glo nie, omdat hulle dit nie uit hulleself uit kan doen nie. Maar om so te redeneer is nie Bybels nie.

 

In v.39 het Petrus gesê dat God mense na Homself toe sal roep, en in v.40 het hy gesê dat die ongelowige Jode hulleself van die Here se oordeel moet red.  Daarmee het hy nie bedoel dat die krag om gered te word in onsself lê nie, maar eerder dat ons ‘n verantwoordelikheid het om na die Here toe te draai.

 

Petrus het van die opstanding en van Jesus se Messiaskap te getuig (v.40, v.32, 1:22, 3:15, 4:33, 9;22, 10:40-43, 18:28, 28:23). Hy het nie maar net die koue feite weergegee nie, maar het by die Jode aangedring om hulle te bekeer (v.39).  Die Here sou hulle in 70 n.C. geoordeel het (v.39, 19-20).  Om hulleself van hiervan te red, moes hulle van daardie bose geslag af weggedraai het (v.39, vgl. Dt.32:5, Fil.2:15) en die Naam van die Here Jesus aangeroep het (21, Joël 2:32, Rm.10:13).

 

Die Jode se reaksie (v.41)

Spurgeon het van ‘n sekere Mary Bailey vertel wat 50 jaar na haar bekering eers gedoop is. Spurgeon se reaksie hierop was soos volg:  ‘…it is to be hoped that none will imitate her by postponing the confession of their faith in Jesus for so long a time.  She lived half a century in disobedience to her Lord…’[1]  Die psalmis het gesê:  “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou” (Ps.119:160).

 

In v.41 sien ons hoe die Jode wat tot bekering gekom het, dadelik gedoop is en by die gemeente gevoeg is. Die Griekse passief wys dat hulle nie hulleself bygevoeg het nie – die Here het dit gedoen (v.41, 47).  Volgens Lukas is daar omtrent 3000 mense by die gemeente gevoeg (v.41).  Dit blyk dan dat hulle rekord gehou het van hoeveel lidmate daar was (vgl. 4:4).

 

Sommige dink dat daar nie genoeg tyd en water was om 3000 mense te doop nie, en dat Lukas oordryf het. Maar as al die apostels gehelp het, kon elkeen van hulle 250 mense gedoop het.  En as 1:15 se 120 dissipels gehelp het, kon elkeen van hulle 25 mense gedoop het.  Wat die hoeveelheid water betref sê John MacArthur dat argeoloë groot mikvahs of doopfonte in Jerusalem ontdek het.  Die Jode het dit in hulle reinigsrites gebruik.[2]

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Wat verwag die Here van jou?  Volgens v.41 lyk die volgorde só:  jy moet die evangelie glo en jou bekeer, gedoop word, en by die gemeente aansluit.  Jy kan nie volgorde omruil of een van die opdragte uitlos nie.  Jy kan nie gedoop word of ‘n lidmaat word, as jy nog nie gered is nie.  Jy kan nie die evangelie glo, en dan weier om jou te laat doop en by die gemeente aan te sluit nie.  Jy kan ook nie by die gemeente aansluit as jy nie gedoop is nie.  Watter een van hierdie dinge moet jy nog doen; watter een stel jy uit?

 

[1] Het jy nog nie die evangelie in jou hart ontvang en jou bekeer nie? Wat verhinder jou?  Erken dat jy teen die Here gesondig het, omdat jy vir jouself gelewe het en nie ‘n God oor jou wil hê wat vir jou sê hoe jy moet lewe nie.  Bely dat jy vir jouself ‘n god geskep het wat net liefde is, omdat jy nie van sy heilige oordele hou nie.  Bekeer jou van die dinge waaroor jou gewete jou pla, en selfs van die dinge wat jy al so baie gedoen het, dat dit jou nie meer pla nie.

 

Glo dat Jesus se kruisdood vir sondaars voldoende is om jou sonde weg te was. Glo dat Hy uit die dood uit opgestaan het en vertrou Hom om jou te red.  Glo dat sy liefde opreg is en dat Hy jou redding begeer.  Hoop geheel en al op Hom om jou te verlos, net soos wat jy op die grond onder jou voete vertrou om jou gewig te dra.  As jy hierdie liefdevolle Christus leer ken, sal jy nie anders kan as om Hom lief te hê en te doen wat Hy vir jou sê nie – jy sal wil.

 

[2] Het jy al tot bekering gekom, maar dit nog nie openlik in die doop bely nie? Die Here wil hê jy moet gedoop word; dit is nie opsioneel nie (v.38, 10:48, Mt.28:19).  “En wat noem julle My:  Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lk.6:46).  Wat beveel die Here aangaande die doop?

 

Gelowiges, en nie babas nie, moet gedoop word (v.38, 41, 8:12, 9:18, 10:47-48, 16:14-15, 30-33, 18:8, 19:1-6, 22:16, Mt.28:19, Mk.16:16, Rm.6:3-4, 1 Kor.1:2, 14-16, Gal.3:26-27, Ef.4:5, Kol.2:11-13, 1 Pt.3:21). Ek weet dat daar besware teen die Baptiste se siening van die doop is.  Laat my toe om hulle een vir een te beantwoord.

 

Beswaar #1: ‘Die verbond vereis dat gelowiges se kinders gedoop moet word.’

 

Antwoord: Mense wat dit sê verstaan nie die verbond nie.  In die Ou Testament het ‘n mens deur geboorte deel geword van God se uitverkore volk.  Om te wys dat ‘n kind deel gehad het aan God se verbond met Israel, is hy op 8 dae besny.

 

Om deel te hê aan God se nuwe verbond met die kerk moet ‘n mens geestelik gebore word en gedoop word as ‘n illustrasie daarvan. Soos wat besnydenis onder die ou verbond op fisiese geboorte gevolg het, moet die doop onder die nuwe verbond volg op wedergeboorte.

 

Beswaar #2: ‘Kol.2:11-13 sê dat die doop die besnydenis vervang, en omdat dit so is moet babas gedoop word.’

 

Antwoord: Paulus sê nie hier dat die doop die besnydenis vervang nie, maar hy praat van mense wie se harte besny is (m.a.w. hulle is weergebore).  Hulle was geestelik dood, maar deur hulle geloof in Jesus is hulle opgewek en lewe hulle nou saam met Hom.  Volgens Paulus is dit húlle wat gedoop moet word.

 

Beswaar #3: ‘Maar wat van die tekste wat praat van huisgesinne wat gedoop is:  kan ons nie hieruit aflei dat daar babas was nie?’

 

Antwoord: Nee, want die tekste sê dit nie.  Eintlik sê die meeste van hierdie tekste vir ons dat die gesinne wat gedoop is, nie babas in gehad het nie.  Cornelius en sy huisgesin is gedoop, maar hulle het ook almal die Here gevrees, die Gees ontvang en tot bekering gekom (10:2, 44, 47-48, 11:14-15).  Die tronkwag en sy huisgesin is gedoop, maar hulle het ook almal die evangelie gehoor, geglo en hulle daarin verbly (Hd.16:30-34).  Stefanas en sy huisgesin is gedoop, maar hulle was ook die eerste bekeerlinge in Achaje en het getrou in die kerk gedien (1 Kor.1:16, 16:15).

 

Beswaar #4: ‘Wat van 1 Kor.7:14 wat sê dat die kinders deur hulle gelowige ouers geheilig word?’

 

Antwoord: Die woord ‘heilig’ beteken om af te sonder.  Al wat die teks sê is dat gelowige se kinders deur die Here afgesonder word om in ‘n huis te bly waar hy of sy die evangelie kan hoor.  Die teks sê ook dat die ongelowige party in ‘n huwelik deur die gelowige party geheilig word.  En as die kinders gedoop moet word, moet die ongelowige huweliksmaat ook gedoop word.

 

Beswaar #5: ‘Maar het Jesus nie in Mt.19:14 gesê dat ons nie die kindertjies moet verhinder om na Hom toe te kom nie?’

 

Antwoord: Ja, maar Hy het nie gesê dat ons hulle moet doop nie.

 

Beswaar #6: ‘In v.39 sê Petrus dat die belofte vir die Jode en hulle kinders is.’

 

Antwoord: Volgens v.38 verwys die belofte nie na die doop nie, maar na die Heilige Gees.  En volgens die res van v.39 is die gawe van die Heilige Gees slegs vir dié wat die Here na Homself toe roep, vir dié wat tot bekering kom.  Die kinders in v.39 verwys dan nie na babas nie, maar na die Jode se nageslag wat in Christus glo (vgl. ‘seuns en dogters’ in v.17).

 

Die opdrag is dan duidelik: as jy jou bekeer het en in Jesus geglo het, moet jy gedoop word.  Dit geld nie net vir party mense nie, maar vir almal (v.38) – en jy is nie die uitsondering op die reël nie.

 

[3] Het jy al tot bekering gekom en jouself laat doop, maar nog nie by ‘n gemeente aangesluit nie? Volgens v.41 het die Here mense by die gemeente gevoeg.  Moet dan nie van die gemeente af wegbly as jy dit kan help nie.  Moet ook nie nalaat om by ‘n goeie gemeente aan te sluit en jouself so aan Jesus en sy liggaam te wy nie.

 

Let asseblief op dat die Here mense by die gemeente gevoeg het (v.41, 47).  Geen ‘kerkraad’ of gemeentevergadering mag aan sy vereistes peuter of verander nie.  Daarom kan ons nie van iemand ‘n lidmaat maak as hy of sy ongered of ongedoop is nie (v.41).

 

Joel Beeke is ‘n predikant in Amerika. Hy het eenkeer sy hart by sy ouer vriend uitgestort en vir hom gesê:  ‘Ek voel ontmoedig; die mense in die gemeente het my lief of hulle haat my – niemand staan neutraal nie.’  Sy vriend was in ekstase:  ‘Wonderlik!’ het hy gesê.  ‘Dit wys dat jy besig is om deur te dring!’

 

Ek wil mooi vra dat jy nie vandag neutraal sal staan nie, maar dat jy ‘n besluit sal neem. Bekeer jou, word gedoop en sluit by die gemeente aan.  Om neutraal te bly is om vir Here te sê:  ‘Ek gaan nie doen wat U van my vra nie.’

 

[1] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, p.146

[2] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Acts 2:41

Advertisements

Vergete voorregte

Forgotten treasure

Gert sukkel om deur die maand te kom en weet nie waar hy die res van maand se kos, petrol- en huurgeld gaan kry nie.  Skielik onthou hy van sy e-bucks kaart wat al vir ‘n paar jaar opgeloop het.  Daar is R15 000 op die kaart.  Hy het skoon van dié voorreg vergeet.  So is dit met ons.  Ons vergeet dikwels watse voorregte ons in Jesus het, en laat na om dit te gebruik.  Daarom is dit nodig vir ‘n herinnering soos Hebreërs 10:19-25.

Omdat Jesus… (v.19-21)

Archie en Chris was boemelaars wat na ons kerk toe gekom het.  My vriend het beide van hulle gehelp om ‘n werk te kry.  Chris het selfs ‘n kar en ‘n woonstel gekry.  Na ‘n paar maande het hulle alles net so gelos, weer begin drink, en teruggegaan straat toe.  Baie gelowiges is so.  Jesus gee vir hulle nuwe lewe, vergifnis, die gemeenskap van gelowiges, en ‘n oop weg deur die Woord en gebed.  Tog minag en versaak hulle dié voorregte.

Jesus het ons sonde weggevat (v.1-18).  Daarom kan ons sonder vrees en met vrymoedigheid in die heiligdom ingaan (v.19, 4:16).  In die Ou Testament kon net hoëpriester een keer per jaar in die heiligdom ingaan (9:3, 7).  Toe Jesus dood is het sy Vader die tempelgordyn geskeur, en daarom het ons nou vrye toegang tot God (6:19, Matteus 27:51).  Ons kom nie meer op die ou weg van offers na God toe nie.  Deur sy bloed het Jesus ‘n nuwe weg vir ons oopgemaak.  Hy self is die weg wat na die lewe toe lei (v.19-20,  Johannes 10:9, 14:6).  Jesus is nie net die offer nie, maar ook die groot priester en Hoof oor die huis van God, die kerk (v.21, 4:14, Efesiërs 1:22, 1 Timoteus 3:15).

Laat ons… (v.22-25)

Henk is 34.  Hy is lojaal en werk hard, maar verdien R4000 per maand en het nie ‘n kar nie.  Sy pa is ‘n biljoenêr en is baie lief vir hom.  Hy sê:  ‘Henk, kry my Maandag by die bank en daarna by die Mercedes garage.  Ek wil vir jou ‘n bankrekening oopmaak en R100 000 per maand gee.  Ek sal ook vir jou ‘n C-Klas Mercedes koop.’  Henk voel skaam om sy pa se aanbod aan te neem.  Hy daag dus nie op by die bank of die Mercedes garage nie.  Sy pa herhaal gedurig die aanbod, maar Henk hou aan wegbly.

Is jy so met God?  Hy is jou Vader en bied aanhoudend alles vir jou aan in Jesus, maar jy gryp dit nie aan met beide hande nie?  Dis om dié rede wat ons mekaar gedurig moet herinner aan die drie opdragte in v.22-25.

Omdat ons ‘n soenoffer en Hoëpriester het (v.19-21), laat ons vrymoedig tot God nader (v.22), aanhou om dit te doen (v.23), en mekaar gereeld herinner om dit te doen (v.24-25).  Moenie bang wees, sodat jy op ‘n afstand bly staan nie (Eksodus 20:18).  Deur geloof in Jesus is elke gelowige ‘n priester en kan ons vrymoedig tot God nader (v.22, Efesiërs 2:13).

Kom met ‘n rein en opregte hart:  jou gewete met Jesus se bloed besprinkel en jou liggaam gewas met rein water (v.22).  Hierdie beeld kom uit die Ou Testament.  Toe Moses die priesters vir diens afgesonder het, het hy bloed op hulle gesprinkel en hulle met rein water gewas (Levitikus 8:6, 30).  Let ook op dat water en bloed uit Jesus se sy gevloei het toe Hy dood is (Johannes 19:34).  Die bloed waarmee Hy ons besprinkel, verwys na sy eie bloed (v.22, 19, vgl. 9:14, Petrus 1:2).  Die water verwys na die innerlike reiniging van die Gees deur weergeboorte.  Die Skrif sê:

  • “Jesus antwoord:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” (Johannes 3:5).
  • “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.  En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” (Esegiël 36:25-27).
  • “Hy [het] ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Titus 3:5).
  • Efesiërs 5:26 sê dat Jesus die kerk “gereinig het met die waterbad deur die woord”.
  • “julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” (1 Korintiërs 6:11).

Weergeboorte word uitgebeeld in die doop.  Daarom sê v.22 ons liggaam is gewas met rein water.  “En nou, waarom versuim jy?  Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.”(Handelinge 22:16).  In die eerste eeu is Christene onmiddellik na hulle bekering gedoop, en nie jare daarna nie.  As ‘n Christen dus in die doopwater tot God geroep het, het God Hom geantwoord, sy sondes vergewe, sy gewete gereinig.  Daarom sê Petrus dat “die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus” (1 Petrus 3:21).

Hou vas aan die hoop van die hemel.  Moenie begin twyfel nie, maar glo dat God getrou is en sy beloftes sal hou (v.23, 4:14, Titus 1:2).  Spoor mekaar aan tot liefde en goeie dade (v.24, 3:13, Titus 3:8).  Moenie die samekomste van die gemeente misloop soos sommige die gewoonte het nie, want dit is juis dáár wat ons mekaar aanmoedig om nie op te gee nie (v.25).  Die vroeë Christene het hulleself aan dié samekomste toegewy (Handelinge 2:42).  Jesus self het dit ‘n gewoonte gemaak om weekliks in die sinagoge te wees (Lukas 4:16).  As ons gedurig aan die oordeelsdag dink, sal ons mekaar aanspoor om nie van die kerk af weg te bly nie, maar om te volhard (v.25).

Kom deur die oop gordyn.  Hoekom sal jy buite die hemel bly as die weg oop is?  Kom in deur geloof in Jesus en die evangelie.  Jesus is ‘n heilige God.  Jy is ‘n onheilige sondaar.  Hy sal jou nooit in sy teenwoordigheid toelaat nie.  Jou sonde moet eers vergewe word; jou hart moet skoongewas word.  Om dié rede het Jesus die perfekte lewe geleef wat jy nie kon nie, en die straf gekry wat jy verdien het.  Hy het uit die dood uit opgestaan.  Om ‘n opregte hart en skoon gewete te hê moet jy jou sondes bely, jou daarvan bekeer, en in Jesus glo.  Wys dan ook deur die ‘skoon water’ van die doop dat jou hart gereinig is.

Is jy ‘n ou gelowige wat geestelik verflou het?  Het jy vergeet van die voorreg van jou hemelse hoop, sodat jy nie meer baie aan die hemel dink nie?  Het jy vir geld en die plesier van hierdie wêreld begin lewe?  Het jy begin twyfel?  Hou vas aan die hoop, volhard tot die einde, en glo God se beloftes.  Moenie nóú uitsak en alles verloor nie.  “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang.” (2 Johannes 8).

Elke Ou Testament gelowige en priester sou bly gewees het as hulle enige tyd in God se teenwoordigheid kon inkom.  Jy kán enige tyd na God toe kom, maar bly maklik weg deurdat jy biddeloos is, nie jou Bybel lees nie, en ontrou is om kerk toe te kom.  Moenie so lewe nie, maar bekeer jou.  Jesus begeer dat jy na Hom toe moet kom.  In Openbaring 3:20 het Hy vir Christene – vir ‘n kerk! – gesê:  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”  Moenie vergeet dat dit ‘n voorreg is om deel te wees van ‘n gemeente; om deel te hê aan die Woord, die nagmaal, die doop, lofprysing, goeie werke, liefde, en nog meer nie.

Moenie in die slegte gewoonte verval om van die samekomste af weg te bly nie.  Dit wil ek veral vir die nuwe lidmate sê.  Vir die oues sê ek:  party van julle het in die gewoonte verval om weg te bly.  Breek met dié gewoonte en vernuwe jou toewyding aan Jesus, sy Woord en sy liggaam.  Dink jy Jesus sal tevrede op die oordeelsdag as jy min liefde gehad het vir die kerk waarvoor Hy sy bloed gestort het (Efesiërs 5:25, Handelinge 20:28)?

Hoekom moet jy deur die geskeurde tempelgordyn ingaan?  Om ‘n geskenk van jou vriend te weier is ondankbaar en ongeskik (sien Lukas 14:16-24).

Ted is ‘n semi-professionele tennisspeler in Amerika.  Reeds toe hy in sy mid-20’s was het hy $1 miljoen in die bank gehad.  Hy was suinig met sy geld en wou dit nie mors nie.  Hy het op die strand geslaap, ‘n ou fiets gekoop, en elke dag noodles en brood geëet.  Party ryk mense leef asof hulle arm is:  “another pretends to be poor, yet has great wealth.” (Spreuke 13:7b, ESV).  In Jesus is die rykdom van die hemel joune (Efesiërs 1:3, 1 Korintiërs 3:21-23).  Moenie die voorreg van geestelike rykdom vergeet en leef asof jy arm is nie.

Die kerk: God se oogappel

Apple of my eye

Waaraan dink jy as jy die woord ‘kerk’ hoor?  ‘n Gebou met ‘n spits toring, ou hout banke, en ‘n groot kansel?  Samesang, offergawes, gebede, en ‘n lang preek?  Kispakke, dasse en sykouse?  Sondae?  ‘n Denominasie of sinode?  Wat sê die 1 Korintiërs 1:1-9?

 

Haar Hoof (v.1-2)

By ‘n begrafnis het ‘n vreemde man vir my gevra:  ‘Wie is die hoof van die Baptistekerk?’  Ek het nie sy vraag verstaan nie.  ‘Bedoel oom, wie is die leier van dié kerk, of wie is die president van die assosiasie?’ het ek gevra.  ‘Nee, wie is die hoof van die Baptistekerk?’ het hy weer gesê.  Hy het gejubel toe ek ‘Jesus Christus’ antwoord.

 

‘n Kollega van my moes vorms invul vir belasting-kwytskelding van die kerk.  Op die vorm wou hulle weet wie die CEO en Direkteure van die kerk is.  Hy het ingevul:  die Vader, die Seun, en die Heilige Gees.  Jy kan raai dat die vrou nie die vorm wou aanvaar nie.  Maar dis waar:  God is die Hoof van die kerk.

 

God het deur sy soewereine wil vir Paulus geroep om ‘n apostel[1] te wees.  Uit Handelinge 9 onthou ons hoe Jesus hom op die pad na Damaskus voorgekeer het; hoe Hy hom gered en geroep het.  Sosthenes het vir Paulus gehelp om die brief te skryf.  Hy was seker Paulus se sekretaris.  In Handelinge 18:17 lees ons dat hy die leier van die sinagoge in Korinte was.  Op daardie stadium was hy nog Paulus se vyand.  Hy het egter intussen tot bekering gekom en soveel gegroei, dat hy een van Paulus se mede-werkers geword het.

 

Paulus skryf sy brief aan die kerk van God in Korinte.  Die kerk behoort aan Hom.  In v.2 noem Paulus Hom ‘ons Here Jesus Christus’.  Baie lê opgesluit in dié frase.  ‘Here’ impliseer dat Hy die soewereine Hoof en Regeerder van die kerk is (Efesiërs 1:22).  Jesus beteken Verlosser – Hy het die kerk met sy eie bloed gekoop en só as eiendom verkry (Handelinge 20:28).  Christus beteken ‘gesalfde’ en is dieselfde as Messias.  In die Ou Testament is konings, profete, en priesters met olie gesalf.  As Koning regeer Jesus oor die kerk (Matteus 28:18).  As Profeet openbaar Hy God se wil en leer Hy ons deur sy Gees (Johannes 16:13-15).  As Priester bring Hy die offer vir ons sondes en tree Hy vir ons in (Hebreërs 7:25, 10:21-22).

 

As v.2 sê dat God die kerk in Korinte tot stand gebring het, moet jy jou nie veel steur aan mense wat sê die kerk is ‘n mens-gemaakte instelling nie.  Buig die knie voor Jesus, die Hoof van die kerk.  Hoe doen ‘n mens dit prakties?  Jy onderwerp jou aan sy Gees wat ons in die Woord lei.  Die Pous is nie die hoof van die kerk nie.  Die Uitvoerende Komitee of President van ons Assosiasie is nie die hoof van die kerk nie.  ‘n Sekere bekende kerkleier (soos Calvyn, John Wesley, of MacArhur) is nie die hoof van die kerk nie.  ‘n Predikant met ‘n sterk persoonlikheid is nie die hoof van die kerk nie.  Leiers uit verskillende bedieninge wat die ‘kerkraad’ vorm is nie die hoof van die kerk nie.  Die kerk is nie ‘n demokrasie, waarin die gemeente die hoof is nie.  Jesus alleen is die Hoof.  Hy het ouderlinge aangestel om sy Woord aan die gemeente te leer en hulle daarin te lei.  In soverre hulle dit doen moet gelowiges hulle leiers eer, volg, en gehoorsaam (1 Timoteus 5:17, Hebreërs 13:17).  ‘n Christen wat sulke leiers volg is ook aan Jesus onderdanig (Hebreërs 13:7, 1 Korintiërs 4:16, 11:1).  Omdat die kerk aan Jesus behoort het Hy die reg om te sê hoe dit bestuur moet word.

 

Haar lede (v.2, 9b)

Deur die boeke wat hy geskryf het, het Arthur Pink die kerk ‘n guns gedoen.  Tog het hy ‘n groot blaps gemaak deur nie by ‘n kerk in te skakel nie.  Hy het baie foute in die kerk gesien en gedink dat dit beter is om by die huis te bly en sy Bybel te lees.  Hy het in 1931 geskryf:  ‘We have travelled completely around the world, and ministered the Word in many places but there is no church known to us where we could hold membership.’[2]  Dis hartseer.  Die Bybel leer dat ons deel moet wees van ‘n plaaslike liggaam.  So te sê elke brief in die Nuwe Testament is aan kerke of hulle leraars geskryf.  Daar is meer as vyftig ‘mekaar-opdragte’ in die Nuwe Testament (dra mekaar se laste, wees lief vir mekaar, bid vir mekaar, vergewe mekaar, vermaan mekaar, ens.).  Hoe kan jy dit effektief uitvoer as jy nie deel is van ‘n gemeente nie?  Matteus 18:15-17 sê dat ons kerkdissipline moet toepas.  Hebreërs 13:17 sê jy moet jou geestelike leiers gehoorsaam.  1 Korintiërs 11:17-34 sê ons moet die nagmaal saam met ander gelowiges herdenk.  Hoe kan jy enige van hierdie dinge doen as jy nie deel is van ‘n gemeente nie?  Dit is duidelik dat hulle in die vroeë kerk geweet het wie deel was van die gemeente en wie nie (Handelinge 2:41, 4:4, 5:13-14, Romeine 16:1).

 

Die Griekse woord vir kerk is ekklesia en beteken letterlik ‘uitgeroep’.  Korinte was ‘n bose stad.  Op ‘n berg buite die stad was ‘n tempel aan Venus, die godin van liefde.  ‘n Duisend tempel prostitute het elke aand na die stad toe gekom om hulle ‘dienste’ aan te bied.  Volgens 6:9-11 het die Korintiër-Christene op ‘n tyd deel gehad hierin, asook in baie ander sondes, maar nou het God hulle uit die wêreld uitgeroep (ekklesia) om aan Homself te behoort.  Hy het hulle afgesonder.  Dit is immers wat ‘geheiligdes’ beteken.  Dis nie dat hulle op ‘n morele vlak volmaak heilig was nie.  Maar deur Jesus se perfekte heiligheid het God hulle as volmaak beskou.  Die Katolieke lering om sekere mense as heiliges (‘saints’) uit te sonder is onbybels.  Volgens dié vers is elke gelowige ‘n heilige.  God het hulle hiertoe geroep.  Wat is dié roeping?

 

Die sondaar is geestelik dood.  Wanneer iemand die evangelie preek, dan roep God sy uitverkorenes tot nuwe lewe (Romeine 8:30).  Die sondaar sien hy is verlore, sodat hy desperaat uitroep dat God hom sal red (Romeine 10:13).  Sy uitroep is dus ‘n reaksie op God se innerlike roeping.  Daarom praat Paulus van die Korintiërs as “geroepe heiliges… wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep” (v.2).

 

Hoekom het God ons geroep?  As God jou geroep het sal jy dien.  Tog is jy nie primêr geroep om soos Marta te dien nie, maar om soos Maria by Jesus se voete te sit en gemeenskap met Hom te geniet (Lukas 10:38-42, 1 Johannes 1:3, Openbaring 21:3).  In v.9 sê Paulus dat “julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.”

 

Paulus praat in v.2 van die kerk in Korinte, maar ook van gelowiges wat Jesus se Naam in elke plek aanroep.  Teoloë praat van die sigbare en onsigbare kerk.  Die onsigbare kerk is die kerk soos wat God dit sien:  gelowiges uit alle eeue en op alle plekke.  Dis wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het:  ‘Ek sal my kerk bou’ (Matteus 16:18).  Hebreërs 12:23 verwys na Christene in die hemel as ‘die gemeente’.  Paulus sê in 2 Timoteus 2:19:  “Die Here ken die wat syne is”.  As die Korintiërs dít verstaan dan sal dit die eenheid in hulle gemeente help (v.10).  Die sigbare kerk is die kerk soos wat ons dit sien.  Die sigbare kerk bestaan uit dié wat ‘n geloofwaardige getuienis van redding het, en wie se lewe bewys dat hulle gered is.  Natuurlik sal daar altyd vals gelowiges insluip, maar sover ons dit kan help moet nét gelowiges lidmate word.  Augustinus het oor die onsigbare kerk gesê:  ‘Many sheep are without and many wolves are within.’[3]

 

Moenie lidmaatskap verag en sê dat dit bloot ‘n formaliteit is nie.  Beskou dit as ‘n voorreg.  Is jy ‘n besoeker met ‘n geloofwaardige getuienis?  Is die vrug van bekering sigbaar in jou lewe?  Word ‘n lidmaat.  Praat met die ouderlinge.  Kom Vrydag 19:00 na ons lidmaatskapklas toe.  Staan die doop in jou pad?  In v.13-17 neem Paulus aan dat die Korintiërs gedoop is.  Matteus 28:19 sê dat dissipels gedoop moet word.  In Handelinge 2:41 word almal wat tot bekering gekom het, gedoop en by die gemeente gevoeg.  Moenie wegbly as jy vrae het oor die doop nie.  Praat met my – ek help graag.  Is jy ‘n lidmaat wat verslap het?  Ondersoek jouself of jy gered is.  Indien jy gered is moet jy jouself weer aan jou roeping herinner (v.2, 9b).  Reageer in liefde en gehoorsaamheid.  God het die kerk lief.  Wees soos Hy.  Lê jy te veel klem op die onsigbare kerk, sodat die sigbare kerk vir jou onbelangrik geword het?  Vers 2 maak duidelik dat die sigbare kerk vir God belangrik is.  Die vroeë kerk het hullself toegewy aan geestelike gemeenskap (Handelinge 2:42).  Is jy ‘n lidmaat of besoeker wat nog nie gered is nie?  Bekeer jou en glo die evangelie.  Mense wat lidmate is maar soos ongelowiges in sonde volhard, moet deur kerkdissipline uit die gemeente verwyder word (Matteus 18:17).  Ek verstaan nie hoe mense sê dat hulle deel het aan Jesus (die Hoof), maar nie deel het aan sy liggaam nie?  Hoe wil hulle in die hemel gemeenskap hê met ander gelowiges, as hulle dit nie op die aarde doen nie?

 

Haar gawes (v.3-7a)

In Junie 1972 het Lowell Sanders ‘n artikel in Moody Monthly (‘n nasionale Christelike tydskrif in Amerika) geskryf.  Die titel was:  ‘The Church with 900 Ministers’.  Die artikel het gegaan oor Grace Community Church in Los Angeles.  Sanders was verbaas dat al 900 lidmate betrokke was in die kerk.  As lidmate met ‘n voorstel gekom het om iets in die kerk te doen, het die predikant gesê:  ‘Gaan doen dit!’[4]  Soos in dié kerk was die gelowiges in Korinte nie toeskouers op ‘n Sondag nie – hulle was betrokke.

 

Die Vader en die Seun het reddende genade aan die Korintiërs gegee, asook genade om die brief te gehoorsaam (v.3).  God het sy Seun gestuur, sodat ook hulle deur sy kruisdood vrede met God en mekaar kon hê (v.3).  Ten spyte van die probleme in die kerk, was Paulus dankbaar vir die genadegawes wat God aan hulle gegee het (v.4).  In Christus was hulle verryk in woorde en kennis (v.5).  Hulle het gawes gehad om die Woord te verstaan en vir ander te leer (12:8-10, Romeine 15:14).  Hulle het geen rede gehad om in hulleself te roem nie, want hulle gawes was ‘n geskenk van God (4:7)!  Die gawes was ‘n bewys dat die evangelie effektief in hulle gewerk het (v.6).  Hulle kon immers nie hierdie gawes ontvang het as hulle nie ware gelowiges was nie.  Die kerk het al die gawes gehad wat nodig was vir húlle spesifiek behoeftes (v.7a).  So doen God vir elke kerk.  Daarom is daar gawes in Rome wat verskil van die gawes in Korinte (12:8-10, 28-30, Romeine 12:6-8).

 

Gebruik jou gawe om in die gemeente te dien.  Groet besoekers, pak tafels en stoele uit vir teetyd, besoek die siekes, lees die Bybel en bid saam met ‘n ander gelowige – doen iets!  As jy net eers begin sal die Heilige Gees jou verder lei.  Kyk waar jy nood sien en help daar.  Doen dit wat jy geniet en goed doen; iets waarvan ander sê jy doen dit goed.  Bid vir wysheid hoe jy jou gawe kan gebruik.  Ons moet wegbreek van die idee dat lidmate toeskouers is, en dat die predikant betaal word om die werk te doen.  Hoekom is dit belangrik dat jy jou gawe moet gebruik?

 

Haar hoop (v.7b-9a)

Ek onthou hoe my graad 3 juffrou vir ons gesê het dat die inspekteur skool toe kom, en dat alles netjies en gereed moet wees.  Dit het ons gedryf om hard te werk en alles reg te kry.  Is dit nie ook so met Jesus se wederkoms nie?  Sal dit jou help om beter te dien en meer getrou te wees, as jy geweet het Jesus kom voor die einde van 2016?

 

Die hoop dat Jesus weer gaan kom om die ontroues te oordeel en sy kinders te beloon, dryf ons om getrou te wees en te dien (v.7).  Dis hoe Hebreërs 10:25 ons aanspoor om getrou te wees:  “laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”  In die gelykenis van die talente gebruik Jesus dieselfde argument (Matteus 25:14-30).  Jesus belowe om die Korintiërs vlekkeloos te laat vasstaan tot by sy wederkoms – al woon hulle in so ‘n goddelose stad (v.8).  Hoe sal Hy dit doen?  Hy doen dit deurdat hulle deel is van ‘n gemeente waar hulle getrou hulle gawes gebruik om mekaar op te bou (v.7-8).  God is getrou en sal verseker dat hulle tot die einde toe volhard (v.9a).  “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6).  “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!  Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” (1 Tessalonisense 5:23-24).

 

Hou hierdie hoop vooroë.  Jy sal dit net regkry as jy weet wat om by sy koms te verwag; as jy weet wat Hy van jou verwag.  In 3:12-15 skryf Paulus:  “En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

 

Op die oordeelsdag gaan Jesus sy kinders beloon (4:5, 2 Korintiërs 5:10).  Vir Hom is dit nie belangrik hoeveel gawes jy gehad het nie, maar wat jy gedoen het met die gawes wat Hy vir jou gegee het.  Iemand wat sy een gawe ten volle gebruik het, sal ‘n groter beloning ontvang as die persoon wat sy vyf gawes in die sand begrawe het.  As jy van die hoop vergeet sal jy laks raak en dalk selfs opgee.

 

Wayne Mack het vir ons geleer dat ‘n man wat sê hy het sy vrou lief, maar haar gedurig sleg behandel, ‘n leuenaar is.  Sy dade weerspreek sy woorde.  Sê jou dade (nie jou woorde nie) dat die kerk vir jou baie belangrik is?  Is dit vir jou so kosbaar soos wat dit vir God is?

[1] Die Griekse woord apostolos beteken boodskapper, gestuurde, of ambassadeur.

[2] Iain Murray, The Life of Arthur W. Pink, p.142

[3] Wayne Grudem, Systematic Theology, Inter-Varsity Press, LEICESTER, 1994, 2000, p.857

[4] Iain Murray, John MacArthur: Servant of the Word and Flock, p.36

God se helpers

Strong grip

By ‘n konferensie het Paul Tripp gesê:  ‘Ek bid elke dag drie versoeke.  [1] Ek is behoeftig.  [2] Here, stuur U helpers oor my pad.  [3] Gee my die nederigheid om die hulp te aanvaar as dit kom.’  In Handelinge 18 sien ons hoe die Here verskeie helpers gestuur het om vir Paulus, Apollos, en ander gelowiges te bemoedig.

 

In Agaje (v.1-18a)

 

1 En daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom. 2 En hy het ‘n Jood gevind met die naam van Aquila, afkomstig uit Pontus, wat onlangs met sy vrou Priscílla van Italië gekom het, omdat Claudius beveel het dat al die Jode uit Rome moes vertrek.  Na hulle toe het hy gegaan; 3 en omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want hulle was tentmakers van ambag. 4 En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig.

 

5 En toe Silas en Timótheüs van Macedónië afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is. 6 Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê:  Julle bloed is op julle hoof.  Ek is rein.  Van nou af sal ek na die heidene gaan. 7 En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van iemand met die naam van Justus, wat ‘n godvresende man was, wie se huis naasaan die sinagoge gestaan het. 8 En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop. 9 En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê:  Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; 10 want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad. 11 En hy het daar gebly ‘n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer.

 

12 En toe Gállio goewerneur van Acháje was, het die Jode eenparig teen Paulus opgestaan en hom voor die regterstoel gebring 13 en gesê:  Hierdie man haal die mense oor om God op onwettige wyse te vereer. 14 En toe Paulus sy mond wou oopmaak, sê Gállio vir die Jode:  As daar nou enige oortreding of kwaadwillige skelmstuk was, dan sou ek rede hê om julle te verdra, o Jode; 15 maar as dit ‘n geskil is oor ‘n woord en oor name en oor ‘n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie. 16 En hy het hulle van die regterstoel weggedryf. 17 En al die Grieke het Sósthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gállio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie. 18 En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het…”

 

Paulus het uit Atene vertrek en 80 km wes gereis Korinte toe (v.1).  Hier het hy ‘n Joodse paar ontmoet:  Aquila en Priscilla.  Aquila was afkomstig van Pontus aan die suidkus van die Swartsee.  Hy het moontlik die evangelie gehoor by iemand wat in 2:9 tot bekering gekom het.  Hy het Rome toe getrek.  Dalk het hy sy vrou dáár ontmoet of geskuif vir besigheid (v.2).  Aquila en sy vrou het Korinte toe getrek omdat keiser Claudius die Jode uit Rome verdryf het.  In sy biografie oor Claudius se lewe sê Suetonius:  ‘Claudius expelled the Jews from Rome, as they were constantly raising disturbances under the instigation of one Chrestus [Christus].’  Dit blyk of die ongelowige Jode gedurig moles gemaak het oor Jesus as die Christus/Messias.  Daarom het Claudius alle Jode beveel om die stad te verlaat.

 

Aquila en Priscilla was, soos Paulus, tentmakers.  Daarom het Paulus by hulle gebly en saam met hulle gewerk.  Paulus het geen ander bron van inkomste gehad nie, en moes vir homself ‘n salaris verdien.  Hy wou nie die kerke belas nie en wou ook vir hulle ‘n voorbeeld stel van harde werk:

 

“Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het:  Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” (20:33-35). 

 

Hy wou ook vir die gelowiges ‘n voorbeeld stel van harde werk:  “Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie.  Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg.  Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel:  as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2 Tessalonisense 3:7-10).

 

Aquila en Priscilla was getroue helpers wat hulle huis tot sy beskikking gestel het (v.3).  Hulle het seker baie by Paulus geleer (v.4).  Toe die Jode kon terugtrek Rome toe, het dié twee helpers hulle huis vir die kerk oopgestel.  So beskryf Paulus hulle:  “Groet Priscílla en Aquila, my medewerkers in Christus Jesus, wat vir my hulle lewe gewaag het; nie ek alleen dank hulle nie, maar ook al die gemeentes van die heidene.  Groet ook die gemeente by hulle aan huis.” (Romeine 16:3-5).

 

Twee ánder helpers, Silas en Timoteus, het teruggekom van Berea af (v.5, 17:14).  Paulus het nie meer nodig gehad om tente te maak vir ‘n inkomste nie.  Hy was nou amper elke dag besig met die Woord.  Silas en Timoteus het vir hom ‘n geskenk van Macedonië af gebring (2 Korintiërs 11:9, Filippense 4:15).  Paulus het dadelik vir Timoteus Tessalonika toe gestuur om die gelowiges te help (1 Tessalonisense 3:1-6).

 

Paulus het uit die Skrifte bewys dat Jesus die Messias is (v.5).  Toe die Jode hom teëstaan, het hy sy klere uitgeskud om te wys dat God hulle uit sy Koninkryk sal uitskud (v.6, 13:51).  Voortaan sou hy na die heidene toe gaan.  Hy het vir die Jode gesê:  “Julle bloed is op julle hoof.  Ek is rein.” (v.6, 20:26, Esegiël 3:18-21).  Paulus het nie meer sinagoge toe gegaan nie, maar langsaan in Justus se huis gepreek (v.7).  Crispus, die hoof van die sinagoge, het saam met sy huisgesin tot bekering gekom.

 

Onthou dat Korinte ‘n goddelose en immorele stad was.  Die tempel van Venus, die godin van liefde, was in Korinte.  Elke nag het ‘n duisend prostitute as seksslawe by die tempel gaan ‘werk’.  Baie van die Korintiërs was voorheen moordenaars, dronkaards, diewe, leuenaars, afgodsdienaars, homoseksueles, egbrekers (1 Korintiërs 6:9-11).  Hiérdie agtergrond maak v.8 indrukwekkend:  “En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.”

 

Paulus was bang vir die vyandige Jode.  Jesus het hom vertroos:  “Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” (v.9-10).  Jesus gebruik uitverkiesing as ‘n motivering vir evangelisasie:  ‘Ek het baie mense in hierdie stad.’  Paulus moet aanhou preek, omdat baie van die uitverkorenes nog tot geloof moet kom.  Verskeie tekste leer hierdie selfde waarheid:

 

“Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie [die heidene].  Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder… Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het.  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” (Johannes 10:16, 26-27).  Mense wat nie na Jesus se stem luister nie is nie sy skape nie.  Die ware uitverkorenes sal na sy stem luister.

 

“Paul, a servant of God and an apostle of Jesus Christ, for the sake of the faith of God’s elect and their knowledge of the truth” (Titus 1:1, ESV).  Jesus het vir Paulus geroep, sodat die uitverkorenes tot geloof kon kom en die waarheid ken.

 

“Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.” (2 Timoteus 2:10).  Paulus was bereid om enige lyding te verduur, sodat die uitverkorenes gered kon word.

 

God se volk het nie net uit Jode bestaan nie, maar ook uit heidene wat die evangelie geglo het (v.10, 1 Petrus 2:9-10).  Ná Jesus se bemoediging het Paulus vir 18 maande aangehou preek (v.11).

 

In dié tyd was Gallio goewerneur van Agaje.  Sy broer Seneca sê oor hom:  ‘there is none who does not love Gallio’.  Die Jode het vir Paulus gegryp om hom voor die hof te daag.  Hulle het vir Gallio gesê dat Paulus se evangelie nie ‘n wettige godsdiens van die Romeinse Ryk was nie.  Gallio wou nie hulle klag aanhoor nie en het hulle weggejaag.  In effek het hy gesê:  ‘Van wanneer af moet almal volgens júlle godsdiens aanbid?’  Die toeskouers het Sosthenes, die hoof van die sinogoge (Crispus se opvolger), gegryp en geslaan (v.12-17).  Hulle het besef dat hý die hofsaak teen Paulus aangehits het.  Paulus het hom vergewe, en volgens 1 Korintiërs 1:1 het hy tot bekering gekom.  Jesus het sy belofte nagekom:  “niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie” (v.10).  Die Here het vir Gallio as helper gebruik om vir Paulus te beskerm en die evangelie wettig te maak.  Paulus het vir ‘n lang tyd in Korinte aangebly (v.18a).

 

Evangelie-werkers is gedurig besig om te preek en te bedien, en kry baie min kans om preke te hoor en bedien te word.  So raak hulle maklik leeggetap.  Daarom gee die Here verskeie vorme van hulp om hulle te verfris:

 

  • Hulle word verfris deur Jesus en sy Woord (v.9-10). ‘n Sendeling of predikant wat nie tyd met Jesus spandeer nie; wat nie tyd maak vir die Woord en gebed nie, sal baie gou uitbrand.
  • Om hulle te bemoedig red die Here sondaars; dalk selfs hulle vyande (v.8, 17).
  • Die Here gee helpers en mede-werkers om hulle te versterk (v.2, 5).
  • Die Here stuur mense om hulle te help met blyplek, geld, vaardighede, vriendskap, tyd, gawes, invloed (v.1-3, 5, 7, 15). ‘n Paar voorbeelde sal jou help om te verstaan wat ek bedoel. ‘n Afgetrede predikant in Wallis gebruik sy tyd om jong predikante te besoek en te bemoedig. ‘n Man in Krugerdorp gebruik sy drukkery om Christelike literatuur vir sy kerk te druk – gratis. ‘n Ryk sakeman betaal vir sendelinge om Rusland toe te gaan. ‘n Ryk man in Midrand het vir jare ‘n Predikante-konferensie in Magaliesburg geborg. ‘n 90-Jarige tannie in Nelspruit bel en bemoedig sendelinge en predikante op hulle verjaarsdae. ‘n Gawe man in Bronkhorstspruit het sy huis omskep in ‘n plek waar arm mense Christen kampe kan bywoon. Hy voorsien die kos, beddens en kapel.

 

In Asië (v.18b-28)

 

18 hy [het] van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Aquila.  En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het ‘n gelofte gedoen. 19 En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek. 20 En toe hulle versoek dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie toegestem nie, 21  maar van hulle afskeid geneem en gesê:  Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem vier, maar ek sal weer na julle terugkom as God wil.  En hy het van Éfese afgevaar. 22 En toe hy in Cesaréa gekom het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgereis na Antiochíë. 23 En nadat hy ‘n tyd lank vertoef het, het hy vertrek en agtereenvolgens die land Galásië en Frígië deurgereis en al die dissipels versterk.

 

24 En ‘n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, ‘n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte. 25 Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het. 26 En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Aquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê. 27 En toe hy wou deurgaan na Acháje, het die broeders hom aangemoedig en aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang.  En daar aangekom, was hy deur die genade die gelowiges tot veel nut; 28 want hy het die Jode kragtig in die openbaar weerlê en deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is.”

 

Paulus het Korinte verlaat om sy tuiskerk in Sirië te besoek (v.18).  Hy het vir Priscilla en Aquila saamgevat.  In Kenchreë het hy sy hare afgeskeer (Numeri 6:18).  Hy het waarskynlik ‘n Nasireërgelofte gemaak (Numeri 6) om dankie te sê dat die Here hom volgens die belofte van v.9-10 beskerm het.

 

Toe Paulus in Efese kom het hy in die sinagoge gaan preek en vir Priscilla en Aquila in die stad gelos (v.19).  Hulle het ‘n huis gekry en dáár kerk gehou (1 Korintiërs 16:19, 8).  Die Jode in Efese het gretig na Paulus geluister – dalk omdat hy volgens Joodse gebruik sy geskeer het (v.20, 1 Korintiërs 9:20).  Hulle wou gehad het Paulus moes langer bly, maar hy het gesê:  “ek sal weer na julle terugkom as God wil.” (v.21).  Hy het die beginsel van Jakobus 4:13-16 verstaan:  As die Here wil.

 

Paulus het Sesarea toe gegaan en toe ‘opgegaan’ Jerusalem toe om sy gelofte te vervul en sy geskeerde hare te verbrand (Numeri 6:18).  Hy is Antiochië toe (sy tuiskerk) en het na ‘n geruime tyd vertrek om die kerke te besoek wat hy in hfst.13-14 geplant het (v.22-23).

 

Apollos, ‘n Jood uit Alexandrië het intussen Efese toe gekom.  Apollos was vaardig, wys, vlot, logies, kragtig, gesagvol, geleerd, vurig, moedig, en akkuraat in die Skrif.  Hy het egter nie die Gees- of waterdoop van Jesus geken nie (v.24-25).  Priscilla en Aquila het baie by Paulus geleer en vir Apollos eenkant toe geneem om Jesus se doop aan hom te verduidelik (v.26).  Apollos het nóg sterker geword, sodat hy die Korintiër-Christene beter kon help en die ongelowige Jode maklik kon weerlê (v.27-28).

 

Die predikant of sendeling is nie alleen verantwoordelik om die kerk te bedien, versterk, en bemoedig nie.  Elke gelowige is verantwoordelik om ander te ondersteun en te versorg (soos Priscilla en Aquila vir Paulus gehelp het).  Kyk uit en vra:  ‘Wie kort hulp?’  Dalk kort jy hulp uit God se Woord:  ‘Hoe kan ek gered word?… Hoe kan ek hierdie sonde oorkom?… Ek is angstig en het Bybelse raad nodig… Hoe moet ek nee sê vir versoeking?… Ek is verward… Ek twyfel… Ek is siek en het vertroosting nodig… Ek het antwoorde nodig… Ek gaan deur ‘n swaar beproewing… Ek weet nie hoe om hierdie verse toe te pas nie… Ek kort wysheid’.  Ek is bereid om te help as ek kan.  Bel of e-pos my:  i4@absamail.co.za of 084 699 2030.

 

Leer uit Priscilla en Aquila se voorbeeld hoe om iemand tereg te wys:  vat die persoon eenkant; wees sagmoedig; staaf jou argumente uit die Bybel.  Leer uit Apollos se voorbeeld hoe om teregwysing te aanvaar:  wees nederig genoeg om teregwysing te aanvaar; wees bereid om by leke te leer.  Moenie jou leraar aanbid nie, maar erken dat selfs die mees geleerde teoloë voete van klei het (v.26, 1 Korintiërs 1:12, 3:6-7).

 

God se helpers is soos ‘n yskoue Coke op ‘n warm dag, soos ‘n tydige wind in ‘n skip se seile.  As jy ‘n Christen is kan jy verseker wees dat die Here hulp sal stuur as jy dit nodig het.  Vra net:  “roep My aan in die dag van benoudheid:  Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Psalm 50:15).

Jesus bou sy kerk

Family at church

Eendag toe sê Jesus vir sy dissipels:  ‘Julle beweeg mos tussen die mense en hoor wat hulle sê.  Wie sê die mense is Ek?’  Die dissipels het geantwoord:  ‘Party mense sê U is Elia.’  ‘Ja, en party sê Jeremia,’ het ‘n ander gesê.  ‘En party sê Johannes die Doper,’ het nog een gesê.  ‘Goed, maar wie sê júlle is Ek?’ het Jesus gevra.  Petrus het geantwoord:  ‘U is die Messias (Christus), die Seun van die Lewende God.’  ‘Jy is reg Petrus,’ het Jesus gesê.  ‘Jy het dit nie by mense gehoor nie.  My Vader wat in die hemel is het dit aan jou geopenbaar.  Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou.’ (cf. Matteus 16:13-20).  En dít is waaroor Handelinge 2:37-37 gaan:  Jesus bou sy kerk.

 

37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê:  Wat moet ons doen, broeders? 38 En Petrus sê vir hulle:  Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. 39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. 40 En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê:  Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. 41 Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.

 

42 En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. 43 En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. 44 En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. 45 En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het. 46 En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, 47 terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.”

 

Vereistes vir lidmaatskap (v.37-41)

Die toepassing in Petrus se preek was nie vaag en algemeen nie.  Dit was op die man af:  ‘Júlle het julle eie Messias verwerp en gekruisig!’ (cf. v.23, 36).  Die Heilige Gees het die Woord soos ‘n swaard deur hulle harte gesteek.  Dit is hoe die Gees werk.  Hy stel nie daarin belang om net vir mense te sê:  ‘Trek julle sokkies op; julle het ‘n morele bad nodig’ nie.  Petrus se hoorders het onder ‘n diep sonde oortuiging gekom en gesê:  “Wat moet ons doen, broeders?” (v.37).  Petrus het geantwoord:

 

‘Moenie net berou oor julle sonde nie; doen iets daaraan.  Bekeer julle van julle sonde.  Hou op om te ontken dat Jesus die Messias is.  Hou op om Hom te verwerp.  Bely Hom as Here en Messias deur julle te laat doop (v.38).  Die Joodse volk is ‘n verkeerde geslag (v.40, cf. Deuteronomium 32:5).  Vlug van hulle boosheid (v.40).  As julle dit nie doen nie, sal julle saam vergaan in die oordeel wat op Jerusalem gaan kom (v.40, 19, cf. Openbaring 18:4).’

 

Wat sou die gevolg wees indien hulle die Woord geglo het en hulle bekeer het?  Hulle sou die belofte van die Heilige Gees ontvang en vergewe word.  Dit maak nie saak of hulle volwasse Jode, dié se kinders, of heidene was nie (‘almal wat daar ver is’, cf. Efesiërs 2:12-13).  Hierdie voorreg was vir almal wat God na Homself toe geroep het (v.38-39).  Let asseblief op die volgorde:

 

  • God het 3000 mense tot nuwe lewe geroep.
  • Hulle was oortuig van hulle sonde.
  • Hulle het die Woord geglo.
  • Hulle het van hulle sondes af weggedraai (bekeer).
  • Hulle is gedoop.
  • Hulle is by die gemeente bygevoeg.

 

Het God jou al tot nuwe lewe geroep?  Het jy besef dat jy sondig en verlore is?  Het jy geglo dat die boodskap wat jy gehoor het nie die woorde van mense is nie, maar die Woord van God?  Het jy opgehou met jou sonde?  Het jy weggedraai van die onderstebo wêreld waarin jy leef?  Het jy jou bekering uitgebeeld in die doop (die Griekse woord baptizo beteken ‘onderdompel’)?  Het jy aangesluit by die gemeente (die feit dat Lukas melding maak van 3000 en later 5000 in 4:4, dui aan dat hulle een of ander rekord van lidmate gehou het)?

 

Is jou antwoord op die bogenoemde vrae:  ‘Ja, ek het regtig tot bekering gekom, maar het dit nog nie in die doop uitgebeeld en lidmaat geword nie’?  Hoekom nie?  Word gedoop en sluit aan by ‘n goeie Bybelse kerk.  Is jou antwoord:  ‘Ek is gedoop en is ‘n lidmaat, maar het geen nuwe lewe in my nie.  Ek het geen sondebesef nie.  Ek het ook nie opgehou met my sonde of my rug gedraai op die wêreld nie’?  Daar is baie mense wat hulleself met die kerk assosieer, maar nie weergebore is nie.  Hulle is nie met die geregtigheid van Jesus beklee nie.  Hulle is soos die man wat by die troue was, maar nie die regte klere aangehad het nie.  Sulke mense sal hel toe gaan – al was hulle lidmate van ‘n kerk (cf. Matteus 22:11-14).  As jý so iemand is moet jy jou bekeer.

 

Verantwoordelikhede van lidmate (v.42-47)

Wat was die kenmerke van hierdie eerste kerk in Jerusalem?

 

[1] Bybelse lering en prediking; die leer van die apostels (v.42).  Die apostels het die Ou Testament gepreek (cf. v.14-36) en die Nuwe Testament geskryf.

 

[2] Gemeenskap (v.42).  Ons is bekend met die Griekse woord koinonia.  Hierdie mense het dieselfde Gees, Verlosser en Vader gehad (2 Korintiërs 13:13, 1 Johannes 1:3).

 

[3] Die nagmaal (v.42).  In dié vers verwys ‘die breek van brood’ waarskynlik nie na gewone etes soos in v.46 nie (cf. 20:7, 1 Korintiërs 11:23-24).

 

[4] Gebed (v.42).  Dwarsdeur Handelinge sien ons hoe die gelowiges saamgebid het.  Hier is enkele voorbeelde:  “Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking… En Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur… En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef… daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom [Petrus] opgegaan.” (1:14, 3:1, 4:24, 12:5).

 

[5] Vrees vir God en krag (v.43).  Gestel jy was ‘n Christen in Atene.  ‘n Man stap by die kerk in en sê:  ‘Ek is ‘n apostel van Jesus; my boodskap is geïnspireer’.  Hoe sou jy weet hy jok nie vir jou nie?  Wat as hy ‘n vals apostel met ‘n vals boodskap is?  Daar was ‘n manier om die ware apostels uit te ken.  Hulle kon wonderwerke doen (v.43) om die waarheid van hulle boodskap te bevestig (v.42).  “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.” (2 Korintiërs 12:12).  “hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het [die apostels], terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?” (Hebreërs 2:3-4).  Dwarsdeur Handelinge is dit net die apostels en hulle mede-werkers wat wonderwerke doen.  Lees die boek deur en sien vir jouself.  In die geskiedenis was daar net drie tydperke waarin God vir mense die gawe gegee het om wonderwerke te doen:  die tyd van Moses en Josua, Elia en Elisa, Jesus en die apostels.  In elke era het God wonders gegee as ‘n bewys dat hierdie mense ware boodskappers was (cf. Eksodus 4:1, 1 Konings 17:24, Matteus 11:3-5, 2 Korintiërs 12:12).  In hierdie tye het God ook nuwe openbaring gegee.  Moses en Josua verteenwoordig die tydperk van die wet.  Elia en Elisa verteenwoordig die profetiese tydperk.  Jesus en die apostels verteenwoordig die tyd van die Nuwe Testament.  Omdat die hele Bybel klaar geskryf is, is dit nie nodig dat iemand wonders hoef te doen om te bewys dat hy ‘n ware boodskapper van God is nie.  God doen wel nog wonderwerke in antwoord op gebed.

 

[6] Eenheid, mededeelsaamheid, gasvryheid (v.44-46).  Moenie dink die vroeë kerk was kommuniste nie.  Ja, hulle het hulle besittings verkoop, maar die geld is nie gelykop tussen almal verdeel nie.  Dit is gegee vir die wat nood gehad het.  Buitendien was dit hulle vrye keuse of hulle hul besittings wou verkoop of nie; of hulle al die geld wou uitdeel of nie (cf. 5:4).  Daar is geen rekord dat ander Nuwe Testamentiese kerke dieselfde gedoen het nie.  Daar is ‘n baie logiese rede hoekom die Jerusalem-kerk dit gedoen het:  die stad sou verwoes word (v.19), en daarom het hulle van hulle eiendom ontslae geraak.  So, nie elke gelowige hoef sy eiendom te verkoop en die wins uit te deel nie.  Maar elke Christen moet mededeelsaam en gasvry wees:  “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.” (Hebreërs 13:16).

 

[7] Blydskap (v.46).  Die vrug van die Gees is blydskap (13:52, Galasiërs 5:22).

 

[8] Lofprysing (v.47).  Jy kan seker wees dat hulle God geprys het vir sy vergifnis en verlossing in Jesus.

 

[9] Hulle was sout en lig wat die samelewing beïnvloed het (v.47).

 

[10] Hulle het evangelisasie gedoen.  Hoe anders sou die mense in v.47 tot bekering gekom het (cf. Romeine 10:13-15)?

 

Gee jouself hart en siel vir die kerk van Jesus Christus.  Moenie op die kantlyn sit en kritiseer nie.  Jesus het sy lewe gegee vir die kerk (20:28, Efesiërs 5:25).  ‘The Church was worth His blood, is it not worth your time?’ (Joel Beeke).  Wanneer God mense red plaas Hy hulle in ‘n liggaam, nie in ‘n hoek nie (v.41, 47, 1 Korintiërs 12:13-14).  Iemand wat geen liefde vir mede-gelowiges het nie, wat nie deel wil wees van ‘n gemeente nie, moet sy redding betwyfel:  “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.” (1 Johannes 3:14).  Jy kan nie effektief groei as jy jou nie toewy aan goeie prediking, geestelike gemeenskap, die nagmaal, en gesamentlike gebed nie (v.42).  Ek verstaan nie hoe mense wil groei deur e-kerk of preke op die radio, sonder geestelike gemeenskap nie.  Die Skrif sê:  “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.  Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie” (Hebreërs 10:24-26).  Na sy opstanding het Jesus met die dissipels ontmoet.  Tomas was nie daar nie.  Jesus het nie spesiaal moeite gedoen om in die week met hom te ontmoet nie.  Hy moes wag tot die volgende Sondag aand (cf. Johannes 20:24-29).  As jy weier om te wees waar Jesus met sy kerk ontmoet, sal jy uitmis.  Hy sal jou nie spesiaal in jou sitkamer kom ontmoet nie.

 

Baie van my lesers ken die storie van die ontroue gelowige in die noorde van Skotland.  Hy was baie ongereeld by die kerk.  Die dominee het hom gaan besoek.  ‘n Kaggelvuur het gebrand.  In doodse stilte het die dominee en die man na die vuur gekyk.  Die dominee het later opgestaan en met ‘n ystertang ‘n kooltjie uit die vuur uitgehaal en eenkant gesit.  Die kooltjie het al hoe flouer begin brand, totdat dit swart was.  Die dominee het die kooltjie weer in die vuur teruggesit en gou het dit weer rooiwarm gegloei.  Die dominee het opgestaan en die man gegroet.  Die man het die boodskap gekry.  Is jy skuldig soos hierdie man?  Bekeer jou van jou sonde en wees deel van die kerk wat Jesus op aarde bou.