Die hemel se volkslied

Hallelujah-Chorus

Die wêreld weet nie wat halleluja beteken nie.  Jare gelede was daar ‘n populêre lied wat gesê het:  ‘It’s raining men, hallelujah!’  In sommige kerke dink mense nie mooi voordat hulle ‘halleluja’ of ‘amen’ sê nie.  Ek het ‘n diens bygewoon waarin mense ‘amen!’ geroep het toe die spreker sê:  ‘Ons staan agter op ‘n trok in Rusland…’

 

Wanneer ek dan in hierdie preek die woord ‘halleluja’ gebruik, bedoel ek dit nie as ‘n cliché nie, maar gebruik ek dit soos wat Johannes dit in Op.19:1-10 gebruik het.

 

Die eerste halleluja (v.1-2)

Omdat die woord ‘halleluja’ so algemeen in ons musiek voorkom, dink ons nie altyd mooi wat ons sê wanneer ons dit sing nie.  Dit was nie die geval in Op.19 nie.

 

Johannes het iets gehoor wat geklink het soos die stem van ‘n baie groot menigte in die hemel (v.1, 5:11-14, 7:9, 11:15).  ‘Halleluja!’ het hulle uitgeroep (v.1).  Ek het vroeër in die reeks gesê dat ‘halleluja’ slegs hier in die Nuwe Testament voorkom, en dat dit letterlik ‘prys Jah(we)’ beteken.

 

Waarvoor het hulle die Here geprys?

 

[1] Die mens se verlossing kom geheel en al van die Here af (v.1, Rm.8:29-30, 11:36, Ef.2:8-9).  Die Here het ook sy bruid van die prostituut se onderdrukking verlos (18:20).

 

[2] Omdat verlossing van die Here af kom, het hulle gesê dat die heerlikheid aan Hom behoort en aan niemand anders nie:  Soli Deo Gloria (v.1, Jes.48:11).

 

[3] Hulle het Hom ook geprys dat Hy die mag gehad het om te skep, te onderhou, die geskiedenis te beheer, te verlos en te oordeel (v.1).

 

Die rede hoekom hulle Hom so geprys het, is omdat Hy waaragtig en regverdig was toe Hy die groot prostituut genaamd Babilon – dit is, Jerusalem – geoordeel het (v.2, hfst.17-18).[1]  Dit was immers a.g.v. háár geestelike egbreuk dat die land [Gk. ] in ‘n moeras van immoraliteit verval het (v.2).

 

Verder was dit ook sý wat die bloed van die Here se diensknegte vergiet het, en daarom het Hy wraak geneem en haar geoordeel (v.2, 18:20, 24, 16:6, Dt.32:35, 41, 43, Lk.11:47-51, vgl. 2 Kon.9:7).

 

Die tweede halleluja (v.3)

Robert Murray McCheyne was ‘n Skotse prediker in die 1800’s.  Op 9 Nov. 1834 het hy gehoor dat iemand wat baie verkeerde lering versprei het, gesterf het.  Hy was bly oor die nuus.[2]  Toe ek dit gelees het was ek aanvanklik geskok.  Maar as ek dit met Op.19 vergelyk, besef ek dat hy reg was.

 

Die groot menigte van v.1 het weer ‘halleluja!’ geroep (v.3).  Jerusalem was soos Sodom, en daarom het haar rook soos Sodom s’n in die lug opgestyg (v.3, 11:8, 17:16, 18:8).  Die rook was ‘n voorsmakie van die ewige straf wat sy in die hel sou beleef het (v.3, 14:10-11, Jes.34:8-10, 2 Pt.2:6, Jud.7).

 

Hoe moet ons hierdie eerste drie verse toepas?  Soos die gelowiges in hierdie verse, sal jy ook die Here vir jou verlossing prys wanneer jy in die hemel is.  Jy sal geen krediet vir jouself neem, asof die bepalende besluit vir jou redding by jóú en jou vrye wil gelê het nie.  Jy sal verstaan dat Hý die Outeur en Voleinder van jou geloof is, dat Hý die goeie werk in jou begin en volbring het, en dat Hy jou gered het tot die lof van sý heerlikheid (Heb.12:2, Fil.1:6, Ef.1:6, 12, 14).

 

Jy sal Hom ook prys vir sy regverdige oordele oor OGOD en hulle ateïstiese ondersteuners, ISIS en ander Moslem-groepe, die Kommuniste, en die res van die kerk se vyande (v.2, Ps.58:11).  Jy sal bly wees dat jy nie self wraak geneem het nie, maar dat jy dit vir die regverdige God gelos het.  Jou lofprysing sal nie sadisties wees, sodat jy lekker kry oor jou vyande wat in die hel is nie.

 

Maar jy sal ook nie hartseer wees nie.  God se heilige grootheid, geregtigheid en almag sal so oorweldigend wees, dat dit alles oorskadu.  Jy sal sê dat dit goed en reg is dat Hy die kerk se vyande in die hel gewerp het.

 

Jy sal ook opnuut dankbaar wees dat Hy jou gered het, en dat jy nie saam met die goddelose in die hel is nie.  Jy sal besef dat jy die hel verdien het, en dat dit sy vrye genade is wat die verskil gemaak het.  Jy sal nie anders kan as om Hom vir ewig te prys in alles wat jy doen nie.

 

Die derde halleluja (v.4-5)

Ek het by twee geleenthede iemand in die hof gaan ondersteun.  By beide geleenthede het ‘n polisieman my aangespreek:  een keer omdat ek ‘n hoed op my kop gehad het, en die ander keer omdat ek teen die muur gestaan het.  En as die hof so ernstig was dat ek respek moes wys, hoeveel te meer is dit nie die geval in die hemel nie?

 

Die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens het voor die troon geval en die Here aanbid wat daarop gesit het.  Ek het in hfst.4 gewys dat die 24 ouderlinge ‘n rangorde van engele is, en dat die 4 lewende wesens gerubs is.[3]

 

Hulle het op hulle gesigte voor die troon geval en die Here aanbid (v.4).  Hulle ‘amen’ het die groot menigte van v.1-3 se ‘halleluja’ ge-eggo (v.4).  Dit is asof hulle gesê het:  ‘Dit ís so; ons stem saam dat die Here geprys moet word.’

 

Daar het ‘n stem van die troon af gekom:  “Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!” (v.5).  Die stem wat van die troon af gekom het was Jesus s’n.  In sy menslike natuur was die Vader ook sý God, en het Hy Hom geprys (Ps.115:1, Jh.20:17, Ef.1:3, 17, Heb.2:12).  Hy het vir God se knegte, vir die wat Hom vrees, gesê om Hom te prys (v.5, 1-10).  Dit het vir almal gegeld, klein en groot (v.5, 11:18).  Dit is tog hoekom Hy hulle gemaak het (Ps.148:2, 11-14, Jes.43:7, 21).

 

En as jy hiervoor geskep is sal jou siel nie rus, totdat jy dit doen nie.  Ek bedoel nie net dat jy ‘Jesus-liedjies’ moet sing nie, maar dat jy deur tydsame gebed en bepeinsing in ‘n verhouding met die Here moet leef.  As jy dit gereeld doen sal jy op een of ander stadium ‘n diep ervaring met die Here hê, sodat jy nie anders kan as om Hom te prys nie.

 

Eers dán sal jy besef dat ware lofprysing die hoogste piek is wat jy ooit in hierdie wêreld en in die volgende een sal bereik.  Ewe skielik sal die plesiere van hierdie wêreld vir jou leeg en hol wees.  Jy sal agterkom dat drank, vriende, jou huweliksmaat en kinders, seks, rykdom, nuwe goed, ‘n ander werk, lekker kos, populariteit en aansien, akademiese grade, jou net tydelik gelukkig kan maak.  Om ware vervulling, satisfaksie en versadiging te hê, moet jy die Here prys.  Dit kan nie anders nie, omdat Hy jou hiervoor gemaak het.

 

Die vierde halleluja (v.6-9)

Wanneer iemand in Johannes se tyd verloof geraak het, moes hy ‘n bruidsprys aan die bruid se pa betaal het.  Verlowing was meer bindend as wat dit vandag is; dit moes met ‘n amptelike skeibrief verbreek word (Mt.1:18-25).

 

As die man klaar verloof geraak het, het hy vir ‘n kort tydjie weggegaan om alles gereed te kry vir die troudag.  As dit gereed was, het hy sy bruid kom haal en haar na sy huis toe gevat.

 

Hulle het vir sewe dae fees gevier, en aan die einde daarvan beloftes uitgeruil.  Daarna het hy haar in sy huis ingebring.[4]  Dit sal help om hierdie agtergrond in gedagte te hou wanneer jy v.6-8 bestudeer.

 

Johannes het weer ‘n stem gehoor wat soos ‘n groot menigte klink, soos die gedreun van baie waters en soos die geluid van harde donderslae (v.6, 14:2).  Hulle het die Here met ‘n ‘halleluja’ geprys, omdat Hy as die Almagtige God regeer het (v.6).  Sy aardse Koninkryk het begin toe Jesus na die hemel toe opgevaar het en dit in sy Naam geregistreer is; dit sal oor die wêreld versprei en by die wederkoms vervul word (hfst.5, 11:15, 17, Ps.2:6-8, 110:1, Dn.2:35, 7:13-14, Mt.4:17, 6:10, 12:28, 28:18, Lk.10:9, 17:21).

 

Net so het Jesus se huwelik by sy eerste koms begin, en sal dit by die wederkoms vervul word (v.7, Mt.9:15).  Kom ek verduidelik dit so:

 

Omdat Israel aanhoudend in die Ou Testament egbreuk gepleeg het, het die Here haar met ‘n skeibrief weggestuur (Jer.3:1-8, Mt.19:9).  Hy het haar egter vergewe en teruggevat (Hosea).  Maar in 16:21 en 17:16 het Hy genoeg gehad, sodat Hy die prostituut gestenig en verbrand het (Dt.22:22, Lv.21:9).

 

Dit het in 70 n.C. gebeur toe Hy die tempel met sy priesters en offers verwoes het, en so die ou verbond met Israel finaal tot ‘n einde gebring het (Heb.8:13, 10:9).  Maar dit is nie asof sy huwelik misluk het nie.  God se ware bruid was nog altyd dié wat in Christus geglo het, en nie dié wat as Jode gebore is en besny is nie (Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 16, 29).

 

God het in 21:2, 9, Jes.54:5, 62:5 gesê dat die hemelse Jerusalem (die kerk volgens Gal.4:26) sy bruid is.  Deur sy dood het Hy die bruidsprys betaal, en toe sy in Hom geglo het, het Hy aan haar verloof geraak (Ef.5:22-33, 2 Kor.11:2).

 

Hy het opgevaar hemel toe om alles gereed te kry vir die troudag.  Sy het ook moeite gedoen om haarself gereed te kry, deurdat sy die blink wit trourok van haar heilige en gehoorsame dade aangetrek het (v.7-8, 3:4-5, 14:4, 1 Jh.3:3).  Deur sy kruisdood het Jesus hierdie fyn linne trourok vir haar gekoop (v.8, 7:14, Gn.3:21, Ps.132:9, Sp.31:22, Jes.61:10).

 

Die punt is dat die Here sy bruid instaatgestel het om goeie werke te doen, maar dat dit sý is wat dit moes doen (v.7-8, Ef.2:10).  God se bruid moes haarself vir die hemel voorberei, maar die Here sou gegee het wat nodig was om dit te doen (Fil.2:12-13).

 

Dit beteken nie dat sy vir die hemel moes wag om fees te vier nie.  Volgens die Bybel bestaan die fees ten minste uit drie disse, en is dit so te sê ‘n driegang maaltyd.

 

  • Wanneer iemand tot bekering kom, geniet sy in die Woord, die gemeenskap van gelowiges, die nagmaal en gebed ‘n ete met die Here (3:20, Lk.10:39, 42, Hd.2:42, 1 Kor.5:8).
  • Wanneer ‘n Christen doodgaan, gaan sy dadelik hemel toe. Daar het sy ‘n voller ervaring van die feesmaal saam met Jesus (v.7, Mt.26:29, Jh.14:2-3, Fil.1:23).
  • Wanneer Jesus weer kom, sal sy vir ewig die finale dis van die feesmaal saam met Hom geniet (Jes.25:6).

 

Is dit enige wonder dat die bruid in v.7 bly was en die Here verheerlik het?  Is die bruid se blydskap joune?  Is jy reg om by die feesmaal aan te sit?  Is die klere van jou lewe rein?  Het jy dit wit gemaak in die bleikmiddel Jesus Christus se bloed, en hou jy dit so deur ‘n heilige lewe van gehoorsaamheid?

 

Jy kan ander mense flous, omdat jy elke Sondag in die kerk sit en godsdienstige dinge doen.  Maar jy kan nie die Koning flous nie – Hy sien dwarsdeur jou.  Hy weet of jy in die kerk, huis, huwelik, skool, werkplek, en vriendekring die wit klere van ‘n rein hart en ‘n heilige lewe aan het of nie (Mt.22:11-12).  As jy dit nie aan het nie, sal jy uit die kerkbanke uit hel toe gaan (Mt.22:13).

 

Sorg daarom dat jy voortdurend die wit klere van ‘n heilige lewe aan het.  Moet egter nie dink dat jy dit self so wit gekry het nie.  Jy weet goed dat Jesus hierdie wit klere vir jou gegee het.  As jy dit nog nie het nie, moet jy vir Hom vra om jou uit die modderpoel van jou sonde te red, jou in die fontein van sy bloed te was, en vir jou die wit klere van sy geregtigheid aan te trek.

 

Só kan jy weet dat Hy jou na die troue toe genooi het, en is jy baie geseënd (v.8-9).  Soos wat jy jóú huweliksmaat en gaste gekies het, het die Here sýne gekies.  Beskou dit dan as ‘n voorreg en nie as ‘n reg nie dat Hy jou gekies het om deel van sy bruid te wees, en dat Hy jou na die troue toe genooi het (v.9, Mt.22:14, Hd.13:48).[5]

 

Dank ook die Here dat hierdie nie maar net ‘n feëverhaal is soos Sneeuwitjie of Aspoestertjie nie.  Alles wat die engel vir Johannes gesê het is God se ware woorde (v.9).

 

Die laaste halleluja (v.10)

Omtrent 15 jaar gelede het ‘n vriend van my tot bekering gekom.  Hy het vir my gesê dat ek sy lewe gered het.  Ek het mooi aan hom verduidelik dat dit die Here was en nie ek nie.

 

Iets soortgelyk het in v.10 gebeur.  Johannes was so verwonderd dat hy probeer het om die engel te aanbid.  Hy het as’t ware voor die engel se voete geval en ‘halleluja’ gesê.

 

Die engel het hom dadelik gekeer en gesê dat hy God se slaaf is net soos Johannes en die profete wat van Jesus getuig het (v.10, 5, 22:8-9, Hd.10:25-26).  As Jesus dan die middelpunt van hulle boodskap was, moes Johannes Hóm aanbid het en nie die engel nie (v.10, Lk.24:25-27, 44-45, Jh.5:46).

 

Ons moet God alleen dien:  ons mag nie tot engele bid of hulle aanbid nie, hetsy gevalle engele of heilige engele (v.10, 22:8-9, Eks.20:3, Mt.4:9-10, Kol.2:18).  Ons mag ook nie ‘n ds. vir sy preke of bediening prys, asof hy die Here is wat hierdie dinge doen nie.  Verder mag geen ds. of lidmaat mense versoek om hulle te prys nie, maar moet Jesus die middelpunt van hulle boodskap en lewe wees (v.10).

 

Ten slotte moet ek sê dat enige siening oor Openbaring wat op die fyn besonderhede van die eindtyd fokus en nie op Jesus nie, glad nie oorweeg moet word nie.  ‘n Siening wat jou bang maak en jou nie dryf om ‘halleluja!’ te sê nie, eggo nie die hemel se volkslied nie en mis die punt.

 

[1] Sien my preek, Die Lam, die Prostituut en die Antichris vir ‘n bewys dat die prostituut of Babilon ‘n skuilnaam vir Jerusalem is.

[2] Iain Murray, The Puritan Hope, p.194

[3] Sien my preek, ‘n Visioen van die hemel.  Daarin het ek gewys dat die lewende wesens ooreenstem met die gerubs in Esg.1, 10.  Ek het ook gewys dat die 24 ouderlinge op trone gesit het, en dat Paulus in Kol.1:16 van sommige hemelwesens as ‘trone’ praat.  Volgens party is die 24 ouderlinge ‘n voorstelling van al die gelowiges in die Ou- en Nuwe Testamente, en is die 4 lewende wesens simbolies van die hele skepping.  Ek huldig nie hierdie siening nie, omdat Johannes in Op.7:9, 11 tussen die 24 ouderlinge en die gelowiges in die hemel onderskei.

[4] William Hendriksen, More than Conquerors, p.215

[5] Ek dink nie Johannes probeer om tussen die bruid en die genooide gaste te onderskei nie.  Christene is die bruid en die gaste wat na die troue toe genooi is, net soos wat Jesus in 7:17 die Lam en die Herder is.

Advertisements

Die ontheiliging van die nagmaal

Lord's Supper

In my jong dae het ons gemeente ná elke eerste Sondag se nagmaaldiens ‘n liefdesmaal gehad. Almal het hulle eie kos gebring en dit met mekaar gedeel: pampoenkoekies, Blue Bonnet rys, gebraaide hoenderboudjies en aartappels, frikkadelle, koolslaai, groenslaai, wortel slaai, vla, malva poeding, koeldrank, en meer.

 

In die eerste paar eeue n.C. het elke gelowige sy eie brood en wyn bygedra vir die nagmaal. Mense het hulle brode op ‘n tafel uitgepak, en die wyn is in een groot silwer beker uitgegooi. Almal het met mekaar gedeel.[1]

 

In Paulus se tyd het die kerk – soos met die Joodse Pasga – ‘n liefdesmaal gehad tussen die brood en die beker (vgl. die beker die ete in v.25, Judas 12).[2]

 

Hou dié dinge in gedagte as jy 1 Korintiërs 11:17-34 lees. Paulus spring heen en weer tussen ooreet, dronkenskap, en honger wees by die liefdesmaal, en die ontheiliging van die nagmaal as gevolg daarvan.

 

Partyskap (v.17-22)

‘n Paar jaar gelede het ons probeer om 14:00 op ‘n Sondagmiddag ‘n Engelse diens te hou. ‘n Afrikaanse vrou het gekom. Later het sy soms die oggend- en aanddienste bygewoon. By een aanddiens het sy die preek onderbreek: ‘Ja, is pastoor!… Amen!… Ja, is so!…’

 

Na die diens het ons gesien sy is dronk. My vriend het vir haar gesê: ‘Jy is altyd welkom by die kerk, maar jy moenie dronk wees en die res steur nie.’ Deur haar sterk drank asem het sy gesê: ‘Ek is nie dronk nie.’ My vriend se reaksie was: ‘Dan lieg jy ook nog!’

 

Om ‘n dronk persoon by ‘n braai, rugbywedstryd, dansklub, of partytjie te sien is normaal. Om ‘n dronk persoon by die kerk te sien is nie. Dis byna gelyk aan lastering as ‘n gelowige die nagmaal so ontheilig (v.17-22).

 

Rakende die liefdesmaal en die nagmaal kon Paulus die Korintiërs nie prys nie: hulle samekoms hiervoor was nie ten goede vir die opbou van die liggaam nie, maar ten kwade (v.17, 30, kontr. v.2). Die nagmaal moes die eenheid van die liggaam uitgebeeld het (10:17, vgl. Johannes 11:52, 13:34-35, 17:21, 23). Paulus het egter by Chloë se gesin gehoor dat die kerk verdeeld was (v.18, 1:10-13).

 

Paulus het die nuus geglo, want partyskap – selfs in die kerk – is deel van ons lot terwyl ons op die aarde is (v.18-19, vgl. Matteus 18:7). God het partyskap toegelaat as ‘n toets om te wys wie eg was, en wie soos ongelowiges optree (v.19, 1 Johannes 2:19).

 

Die teenwoordigheid van brood, wyn, en die samekoms van gelowiges was nie die enigste vereiste, voordat dit die nagmaal van die Here kon wees nie. As die kerk partydig was, hulle kos nie met die armes gedeel het nie, vir hulleself geëet het, en dronk was (v.21), was dit húlle tafel en nie Hére s’n nie (v.20).

 

Paulus was geskok en kon hulle nie prys nie. Die doel van die nagmaal en die liefdesmaal was nie dat hulle hulself moes ooreet nie (v.22). Deur só te eet het die armes niks gekry nie en is hulle verneder (v.22, vgl. Spreuke 17:5, Jakobus 2:6). Die rykes het die kerk verag wat God met sy bloed gekoop het (v.22, Handelinge 20:28).

 

Instelling (v.23-26)

R.C. Sproul vertel hoe hy eenkeer die onvergeeflike sonde van ‘n Seminarium professor gepleeg het, en sy humeur verloor het met ‘n student. In die klas het die student met ‘n arrogante houding gesê: ‘Hoekom moet ons brood en wyn gebruik by die nagmaal? Wat as ek lus is vir Coke en ‘n grondbonebotter en konfyt toebroodjie?’ Sproul het sy stem verhef: ‘Want Jesus het nie Coke en konfyt toebroodjies vir die gebruik van die nagmaal afgesonder nie – Hy het brood en wyn afgesonder!’ Ons ontheilig die nagmaal as ons dit vier soos wat ons wil, en nie soos wat Jesus dit ingestel het nie.

 

Die Korintiërs moes die nagmaal vier soos wat Paulus dit by Jesus ontvang het en oorgelewer het (v.23, 15:3, Galasiërs 1:12).[3] Jesus het die brood gebreek in die nag waarin Judas Hom verraai het (v.23). In die Evangelies het ‘nag’ ook ‘n simboliese betekenis: die magte van duisternis wou die Lig van die wêreld uitdoof (Johannes 3:19-21, 8:12, 13:30, Lukas 23:53).

 

Jesus het brood geneem, omdat Hy self die Brood van die lewe en die Manna uit die hemel is (v.23, Johannes 6:31-35). Let ook op dat Jesus self die brood vir sy dissipels gegee het – hulle het dit nie self geneem nie (v.23). So het Hy gewys dat Hy uit eie keuse sy lewe afgelê het (Johannes 10:18). Daarna het Jesus vir die brood gedank (v.24). Dit was wel ‘n dankgebed vir die kos (1 Timoteus 4:5), maar dit was meer as dit. Dit was ‘n dankgebed vir die verlossing wat Hy vir ons sou bewerk.

 

Hoekom het Jesus die brood gebreek (v.24) as die Skrif duidelik sê dat sy bene nie gebreek is nie (Johannes 19:33, 36)? Dit mag dalk daarna verwys dat Hy gegesel is. Of dit mag na Genesis 15 en Jeremia 34 verwys, waar God ‘n verbond gemaak het deur die diere in twee te sny. Jesus se liggaam is ‘gebreek’ om die verbond te verseël.

 

‘Dit is my liggaam’ beteken nie, soos die Katolieke sê, dat die brood regtig Jesus se liggaam word nie. Jesus het gesê Hy is die ware wingerd (Johannes 15:1), en tog glo ons nie Hy het takke en blare nie. Die brood kán nie regtig Jesus se liggaam wees nie, want Hy was immers in sy liggaam voor die dissipels toe Hy die brood vir hulle uitgedeel het. Jesus se liggaam is nou in die hemel, en by sy koms sal ons Hom sien. Die feit dat Jesus gesê het ons moet dit tot sy gedagtenis eet, wys mos dat Hy nie in sy liggaam teenwoordig is nie (v.24). In die negende eeu het John Scotus Erigena gesê: ‘In communion the believer eats Christ’s flesh mentally, not dentally.’[4] Dit is tog so dat Jesus op ‘n besondere wyse geestelik teenwoordig is in die nagmaal.

 

Jesus het die brood vir sy dissipels gegee (v.24). So het Hy gewys dat sy dood nie maar net ‘n goeie voorbeeld van opoffering is nie, maar dat Hy die straf vir ons sonde op Homself sou neem (Jesaja 53:4-6). Daar is tog ‘n sekere sin waarin Jesus se dood ‘n voorbeeld van opoffering is. Die selfsugtige Korintiërs moes opoffer soos Jesus, en nie aan hulleself gedink het by die liefdesmaal en nagmaal nie (v.24-25, 21-22).

 

Jesus het ook die beker vir sy dissipels gegee (v.25). Hulle moes beide die brood en die beker neem. Die Katolieke is dus verkeerd om net die brood te neem, terwyl die priester alleen die beker drink. Wat word in die beker uitgebeeld? Jesus het die beker van toorn gedrink wat ons verdien (Johannes 18:11, Lukas 22:42, Jesaja 51:17, Jeremia 25:15-29), en vir ons die beker van verlossing gegee (Psalm 23:5, 116:13).

 

Die rooi kleur van die wyn is ‘n prentjie van sy bloed wat die nuwe verbond verseël (v.25, Hebreërs 9:16-22). Die vrug van die wingerd herinner ons daaraan dat Jesus die ware wingerd is (Johannes 15:1).

 

Weereens is dit nie so dat die wyn letterlik Jesus se bloed word nie (‘transsubstansiasie’ is die groot woord). Toe Dawid se manne hulle lewens waag en vir hom water in Betlehem gaan skep, het hy dit op die grond uitgegooi en gesê: “Dit is ver van my, HERE, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed drink van die manne wat met lewensgevaar gegaan het?” (2 Samuel 23:17). Sekerlik het Dawid nie gedink dat die water letterlik in sy soldate se bloed verander het nie. Hy het eenvoudig bedoel dat hulle hulle lewens gewaag het. Net so wys die nagmaalbeker dat Jesus sy lewe vir ons gegee het.

 

Deur die nagmaal te gebruik verkondig ons dat Jesus sy lewe vir ons opgeoffer het aan die kruis (v.26). En sal die Korintiërs nie eers hulle kos opoffer vir die arm gelowiges in die gemeente nie (v.21)?

 

Ons moet die nagmaal gebruik totdat Jesus weer kom (v.26). Dit wys duidelik dat Jesus nie meer dood is nie, maar lewe.

 

Ondersoek (v.27-34)

In die eerste paar eeue het gelowiges elke Sondag die nagmaal gevier.[5] Na die vyfde eeu het ‘gewone’ Christene dit al hoe minder gebruik. Teen die sesde eeu het hulle dit slegs op Kersdag, Paas-Sondag, en Pinksterdag gebruik. Later van tyd het hulle dit glad nie gebruik nie, maar toegekyk hoe die priester die brood eet en die wyn drink.

 

Mense het geglo dat die nagmaal regtig in Jesus se liggaam en bloed verander. Hulle was bang en het onwaardig gevoel om dit te gebruik. Die priesters het gesê dat slegs toegewyde Christene kan deelneem. Hulle het die standaard so hoog gestel dat die beste Christene bang was om die nagmaal te gebruik.[6]

 

Toe Martin Luther in 1507 vir die eerste keer as priester by die tafel gestaan het, was hy doodbang vir die Regter van die hele aarde. Hy wou weghardloop maar het homself gedwing om die mis (die Katolieke naam vir die nagmaal) deur te sien. Dit is glad nie wat Paulus met die onwaardige gebruik van die nagmaal bedoel nie (v.27-34).

 

Paulus wou die ontheiliging van die nagmaal regstel, en daarom het hy die kerk in Korinte gewaarsku (v.27-34, 17-22). Jesus se kruisdood is ‘n ernstige saak, en daarom moes hulle die uitbeelding daarvan nie op ‘n onwaardige wyse gebruik nie (v.27, 21-22). Om so te doen is om teen Jesus se liggaam en bloed te sondig. Dit is asof jy Hom weer kruisig (v.27, Hebreërs 6:6, 10:26, 29).

 

Die Korintiërs moes hulleself ondersoek voordat hulle geëet het: was hulle verdeeld, bitter, skuldig aan ander sondes, of ongered (v.28)? ‘n Gelowige wat sy sonde liefhet, of nie die betekenis van die kruis en die nagmaal onderskei nie, nooi God uit om Hom te oordeel (v.29).

 

Dis juis omdat die Korintiërs hierdie dinge gedoen het dat God baie van hulle met siekte, swakheid, en die dood geoordeel het (v.30, vgl. 1 Johannes 5:16, Handelinge 5:1-11, 2 Samuel 12:14-15, 18). Sommige kommentators dink dat hulle siekte en dood die gevolg was van ooreet, dronkenskap, of geen kos nie. Maar dit blyk eerder dat God bonatuurlik ingegryp het om hulle te dissiplineer.

 

As die Korintiërs hulleself geoordeel en ondersoek het, sou God hulle nie getug en geoordeel het nie (v.31). God het hulle getug sodat hulle van hulle sonde sou wegdraai, en hulle nie uiteindelik saam met die wêreld geoordeel sou word en hel toe gaan nie (v.32).

 

Om God se oordeel vry te spring moes hulle met die armes deel en nie self alles opeet nie (v.33). As hulle honger was moes hulle by die huis geëet het, en dan genoeg kerk toe gebring het om met die armes te deel (v.34). As hulle dít gedoen het, sou God hulle nie geoordeel het nie (v.34).

 

Nou ja, dis al wat Paulus vir nou wou sê. Daar was nog reëlings wat hy sou tref as hy na hulle toe gekom het, maar dit raak die Korintiërs alleen en nie vir ons nie (v.34).

 

Die les uit hierdie hoofstuk is duidelik: moenie die nagmaal ontheilig nie.

 

[1] Jy ontheilig die nagmaal as jy vergeet wat dit Jesus gekos het, as jy dit ligtelik opneem, en as jy daarmee speel eerder as om dit te ontvang met vrees, eerbied, erns, danksegging, lofprysing, en liefde (v.24, 27).

 

[2] Jy ontheilig die nagmaal as jy familiêr raak daarmee, dit beskou as alledaags soos enige ander ete, dit maklik misloop, dit – soos Arthur Pink – vir lang tye nie gebruik nie. Onthou dat dit Jesus se sterwenswens was: eet hierdie brood en drink die beker tot my gedagtenis. Die nagmaal is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag totdat Jesus weer kom (v.24-26). Ons mag dus nie, soos die Heilsleer, besluit om dit glad nie te vier nie.

 

Gedenk dit gereeld (elke week, maand, kwartaal?) sodat jy daardeur Jesus se kruisdood vir jou sondes kan onthou (v.26, Handelinge 2:42, 46). Dit sal jou help om nie met sonde te speel nie, maar ook dat jy nie moedeloos word en daarin wegsink nie.

 

[3] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie omgee vir die eenheid van die liggaam nie, as jy dit op jou eie, saam met jou vriende, of saam met jou gesin vier (let op hoe Paulus in v.17-18, 20, 33-34 die woord ‘saamkom’ gebruik). Toewyding aan die nagmaal en gesamentlike gemeenskap gaan hand aan hand (Handelinge 2:42).

 

[4] Jy ontheilig die nagmaal as jy verdeeld, vyandig, of bitter is (v.18-19). In dié geval is dit nie die nagmaal wat jy gebruik nie (v.20). As jy onenig is met ander gelowiges, moet jy dit vandág regstel. Bely jou sonde, vergewe jou broer, raak versoen. Jesus het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” (Matteus 5:23-24). “vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efesiërs 4:32).

 

Moenie wag totdat die persoon sterf, sodat jy by sy graf moet sê: ‘Was dit regtig nodig dat ek ‘n wrok moes dra? Hoekom het ek dit nie maar net uitgesorteer nie?’

 

[5] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie jou hart ondersoek vir sonde nie; as jy nie berou het, jou sonde bely, dit haat, en daarmee ophou nie (v.28, 5:11). ‘Trek jouself aan in die spieël van die Skrif, voordat jy na die nagmaaltafel toe kom.’[7] Voordat jy kerk toe kom moet jy jou hart voorberei. Pa’s moet hulle gesinne hierin lei. Waak tog op Saterdae en Sondae vir die versoekings van die duiwel, die vlees, en die wêreld.

 

[6] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie die betekenis van die kruis, die brood, en die wyn verstaan nie (v.29). Juis om dié rede moet klein kinders nie die nagmaal gebruik nie.

 

[7] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie gered is nie (v.28). “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef.” (2 Korintiërs 13:5). Jy bely dat Jesus vir jou sonde geoffer is, maar geniet die eindste sonde waarvoor Hy gesterf het. So maak jy ‘n bespotting van die nagmaal. Moenie dink jy kan lewe soos jy wil, omdat Jesus vir jou gesterf het nie. As jy met jou sonde aanhou sal jy self die beker van God se toorn moet drink (Openbaring 14:10). Bely dan jou sonde, bekeer jou, en rus in volle vertroue op Jesus se kruisdood en opstanding.

 

[8] Jy ontheilig die nagmaal as jy dit aanbid asof dit towerkrag het, en dit nie sien as iets wat na Jesus toe wys nie. Die Katolieke beskou die nagmaal as ‘n offer wat ons sondes vergewe. Sekere Protestante maak asof die bloed van Jesus towermag het om hulle huise, karre, en kinders te beskerm. Party charismatiese Christene glo dat die nagmaal krag het om siektes te genees. Hulle fokus dus op die teken, en nie op dít waarvan die teken getuig nie.

 

[9] Jy ontheilig die nagmaal as jy dit gebruik of daarvan af wegbly op grond van hoe waardig jy voel, eerder as om ten volle op Jesus se perfekte kruisoffer te vertrou. Jy is soos iemand wat sê: ‘Ek voel nie goed nie, en daarom sal ek nie dokter toe gaan nie.’

 

Ontheilig jy die nagmaal? Die oplossing is nie om weg te bly, totdat jy reg voel nie. Jy moet juis nié wegbly nie, maar na die tafel toe kom om dinge reg te stel. As jy van die tafel af wegbly sê jy indirek dat jy dit nie wíl regstel nie, maar aanhou met jou sonde.

 

Die oplossing is om jou voor te berei soos hierbo verduidelik. Selfs as jy jou vir die nagmaal voorberei het, moet jy nie op jou voorbereiding vertrou nie, maar op Jesus alleen. Ook jou gebede en jou belydenis moet gewas wees in die bloed van Jesus. Ja, wanneer jy by die tafel aansit moet jy besef dat jy ‘n ellendige sondaar is. Maar fokus op Jesus se kruisdood en nie op jou sonde nie. ‘For every one look at sin, take ten looks at Christ.’ (Edward Welch).

 

Hoekom moet jy nie die nagmaal ontheilig nie? Jy sal siek word, sterf, of saam met die wêreld geoordeel word as jy jou nie bekeer nie (v.30, 32).

 

Toe ek op Seminarium was het een van my dosente ons vertel van ‘n jong student wat op Cornelia moes preek. By die nagmaaltafel het hy ‘n stoel nader getrek. Hy het sy voete oor die stoel laat rus en vir die mense gesê: ‘Ek gaan nie vandag vir julle preek nie. Ek wil net ‘n bietjie met julle gesels.’ Die mense was baie ontsteld.

 

Dalk dink jy dat uiterlike aksies nie saakmaak nie. ‘God kyk na die hart,’ sê jy. Jy’s reg. Tog sal iemand wat in sy hart eerbied en liefde het vir Jesus en die evangelie, dit uiterlik wys deur hoe hy met die nagmaal omgaan.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.71

[2] Hofius in David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.546

[3] Paulus het nie sy lering oor die nagmaal by die ander apostels gekry nie. 1 Korintiërs is waarskynlik voor enige van die Evangelies geskryf.

[4] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, p.69

[5] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.68

[6] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, pp.62-63

[7] Thomas Watson, The Lord’s Supper, p.40

Pasop vir Paasfees

Egg with questionmark

Ek het eenkeer in my lewe redenaars gedoen.  Ek was in die laerskool en moes ‘n toespraak lewer oor die onderwerp:  ‘Alles wat te is…’  Daar het ek geleer dat iets wat aanvaarbaar is, sonde kan wees as jy dit oordoen of ‘n verkeerde klem daarop lê.  Om Halloween te vier het te veel okkultiese konnotasies en is daarom sleg.  Maar om Paasfees te vier is goed.  As jy egter ‘n verkeerde klem daarop lê, is dit sleg.  Die beginsels in Eksodus 12:43-13:16 sal vir jou wys wat ek daarmee bedoel.

 

Reëls vir die Pasga (12:43-50)

In 2010 het Kersdag op Saterdag geval.  Omdat dit so naby aan Sondag was, het ‘n kerk in Alberton besluit om nie ‘n Kersdagdiens te hou nie, maar eerder hulle gewone dienste te hou op die Sondag.  Wat dink jy daarvan?  Die leraar het gesê dat Sondag die Here se Dag is en dat ‘n Kersdagdiens nie in die Bybel beveel word nie.  ‘As ek moet kies tussen Sondag en Kersdag, kies ek Sondag,’ het hy gesê.  Hy was reg.  Om Paasfees en Kersfees te vier is goed.  Maar dit word nie in die Bybel beveel nie.  Moet daarom nie ‘n wet daarvan maak of dit belangriker ag as die dinge wat in die Skrif beveel word nie.  Jesus het gesê:

 

“So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.  Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het:

Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Matteus 15:6-9).

 

Geen vreemdeling of slaaf mag van die Pasga geëet het nie (v.43, 45, 38).  God het egter toegelaat dat hulle kon nader kom (Efesiërs 2:13) om saam te eet as hulle besny was (v.44, 48-49).  Reeds in Genesis 17 was dit God se opdrag aan Abraham:

 

“die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ‘n ewige verbond.  En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek…

 

…Daarop neem Abraham sy seun Ismael en almal wat in sy huis gebore is, en almal wat met sy geld gekoop is, almal wat manlik was onder die mense in die huis van Abraham, en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God met hom gespreek het… en al die manne van sy huis—die wat in sy huis gebore en die wat van vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.” (v.13-14, 23, 27).

 

Die Israeliete moes die lam in die huis geëet het.  Soos wat die volk ‘n eenheid was, moes die lam heel gebly het (v.46-47).  Hulle mag dit nie verdeel het of ‘n been gebreek het om dit uit die huis uit te vat nie (v.46, 22-23).  Die volmaakte en heel lam is vervul in Christus.  Om dié Skrif te vervul het die soldate nie Jesus se bene gebreek nie (Johannes 19:33-36, Psalm 34:21, kontrasteer Psalm 51:10).

 

Wat die eet van die lam betref het dieselfde reëls gegeld vir Jode en heidene (v.49).  So is dit in die Nuwe Testament:  “aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof.” (Romeine 3:30).

 

Die volk het toe gedoen wat God deur Moses gesê het (v.50-51).

 

God wil hê ons moet ons redding onthou op die manier wat Hý voorskryf.  Hoe is dit?  Nie deur die Joodse Pasga te vier nie.  As jy vir interessantheid die Pasga wil hou soos die Jode dit gevier het, kan jy dit doen.  Maar vier dit soos jy jou verjaarsdag vier.  Moenie soos die Hebrew Roots Movement maak asof dit ‘n wet is nie (Galasiërs 4:10, Kolossense 2:16-17).

 

Maar moet ook nie selfregverdig voel omdat jy nie wetties is soos hulle nie.  Maak jy meer van ‘n tradisie soos Paasfees, as wat jy maak van ‘n opdrag soos die nagmaal?  Jy sal nie Paasfees mis nie, maar jy sal maklik ‘n nagmaaldiens mis.  Soos Israel die Pasga moes hou, beveel God dat ons die nagmaal moet hou.

 

Net dié wat besny is kon die Pasga eet (v.43-45), en net dié wat in hulle harte besny (weergebore) is en dit uitbeeld in die doop, kan die nagmaal gebruik (Deuteronomium 30:6, Kolossense 2:11-12, Handelinge 2:41-42).  ‘Do you want to come to the Lord’s Table and you haven’t been baptized?  That’s just flatly disobedient.’ (John MacArthur).

 

Soos ‘n heel lam die volk se eenheid uitgebeeld het (v.46-47), is een brood die toonbeeld van eenheid in die gemeente:  “Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.” (1 Korintiërs 10:17).  Juis daarom moet ons nie die nagmaal uit die samekoms uitvat om dit saam met ons gesinne te vier nie (vgl. v.46).

 

Hoekom moet ons ons redding op dié manier onthou?  Want as ons dit doen soos wat óns wil, oortree ons die tweede gebod.  Ons moet God aanbid op die manier wat Hý voorskryf, en nie op die manier wat óns wil nie.  Jesus het gesê ons moet God in waarheid aanbid (Johannes 4:24).  Moenie dink dat die Here jou sal beloon as jy jou eie kop in dié verband volg nie.  Jy dínk jy is besig om Hom te eer, maar as Hy kom sal Hy vir jou sê:  ‘Wie het vir jou gesê om dít te doen?’

 

Reëls vir die ongesuurde brode (13:3-10)

Het jy al ooit iets verleer?  Dalk het jy Zoeloe geleer en dit vir tien jaar nie gepraat nie.  Dit werk dieselfde as jy vir lank nie jou musiekinstrument speel of die verse wat jy gememoriseer het hersien nie.  Eintlik werk dit so met alles wat jy nie gereeld hersien of gebruik nie.  Selfs die bewustheid dat Jesus jou gered het sal verroes as jy nie gedurig daaraan herinner word nie.

 

Die volk moes onthou dat hulle slawe in Egipte was en dat God hulle gered het.  God het hulle met ‘n sterk hand deur die tien plae gered (v.3).  Indien hulle dit vergeet het, sou hulle gou wegdraai om vals gode te dien.  Die fees van die ongesuurde brode sou hulle aan dié verlossing herinner (v.3, 6-7).  God sê in Deuteronomium 16:3:  “Jy mag geen gesuurde brood daarby eet nie; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode daarby eet, brood van ellende—want baie haastig het jy uit Egipteland uitgetrek—sodat jy al die dae van jou lewe die dag van jou uittog uit Egipteland in gedagtenis kan hou.”

 

Ook in die land van melk en heuning moes hulle dié verlossing herdenk.  As dit met ons goed gaan vergeet ons soms van die Here.  Hulle moes dit nie doen nie (v.5).  Deur hierdie fees moes die volk hulleself en hulle kinders aan God se verlossing herinner.  Hulle moes gedurig daaroor praat en dit in hulle denke en dade onthou (v.8-10).  Dit is wat in v.9 bedoel word met die teken tussen hulle oë en op hulle hande.  Later het die volk letterlik sulke boksies gedra (Matteus 23:5), maar hier is dit waarskynlik beeldspraak (Spreuke 3:3, 6:21, Deuteronomium 6:8, 11:18).

 

Ons moet gedurig aan ons verlossing dink.  Moenie tevrede wees om een uit vier of vyf nagmaal dienste by te woon nie.  Kom soveel as wat jy kan.  As jy Jesus se kruisdood net jaarliks by die Paasfees vier, sal jy vergeet.  Jy moet veral versigtig wees as dit geestelik of materieel voorspoedig gaan, want dan kan jy maklik vergeet dat jy op ‘n tyd verlore was (v.5, melk en heuning).

 

Voordat jy die nagmaal eet, moet jy jou sonde bely en so van die suurdeeg van sonde ontslae raak (v.7, 1 Korintiërs 5:8).  Herinner jouself aan hoe erg jou sonde was.  As jy dít doen sal jy die Here meer dank vir jou redding en nie so maklik na jou sonde toe terugkeer nie.

 

Moenie stilbly as jou kinders dink dat Paasfees oor die Paashaas gaan nie.  Vertel vir hulle die waarheid:  Paasfees gaan oor Jesus se kruisdood.  Herinner hulle gedurig aan die verlossing wat Jesus gebring het.  So sal jy dit self beter onthou (v.8-9).  As jy nie gereeld jou redding in die nagmaal herdenk nie, sal jy vergeet om gedurig die Here te dank en jou sonde te bely.

 

Reëls vir die eersgeborenes (13:1-2, 11-16)

Jan en Marike is 35 jaar getroud.  Vir hulle huweliksherdenking koop Jan vir sy vrou 35 rooi rose, haar gunsteling sjokolade, en vat hy haar uit vir ete na ‘n vyfster hotel toe.  Marike is nie beïndruk nie.  Hoekom nie?  Deur die res van die jaar hanteer hy haar soos gemors.  Marike soek nie Jan se geskenke nie; sy soek hóm.

 

Op dieselfde manier kan ons ons verlossing as ‘n reël herdenk met ‘n koue hart.  In die verlede het mense ernstige voorbereiding getref vir die nagmaal en hulle Sondag-beste gedra, maar tog was baie van hierdie kerkmense se harte dood.  God soek ‘n hart van toewyding wat Hom liefhet, en nie bloot godsdienstigheid nie.

 

God sou vir Israel die land gee wat Hy met ‘n eed aan hulle vaders beloof het (v.11, Genesis 15:18, 17:8, 28:13).  Die Psalmdigter sê:  “Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg.  En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel.  En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem, dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar.  Halleluja!” (Psalm 105:42-45).

 

Die eersgebore seuns en vee moes afgesonder word vir die Here (v.1-2, 12).  God het later die Leviete in hulle plek geneem.  Die Here het deur Moses gesê:  “Want al die eersgeborenes onder die kinders van Israel is myne, van mense en van diere; op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek hulle vir My geheilig.  En Ek het die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel geneem” (Numeri 8:17-18).  Weer:  “Al die eersgeborenes van die manlike geslag wat onder jou beeste en onder jou kleinvee aankom, moet jy aan die HERE jou God heilig; jy mag nie werk met die eersgeborene van jou beeste, en die eersgeborene van jou kleinvee nie skeer nie.” (Deuteronomium 15:19).  In die Nuwe Testament het Jesus dié vereiste vervul.  Hy is as eersgeborene aan God geoffer, sodat ons aanneemlik kan wees voor die Here (Lukas 2:7, 22-23).

 

Die rein diere onder die eersgeborenes is aan die Here geoffer.  ‘n Donkie is ‘n onrein dier en moes met ‘n lam losgekoop word.  Indien jy nie die donkie aan die Here wou gee nie, kon jy dit ook nie hou nie, maar moes jy sy nek breek (v.13).  Hoekom moes jy sy nek breek en nie met ‘n mes slag nie?  Want sodra jy dit met ‘n mes geslag het, sou dit ‘n slagoffer wees.  Die Here soek nie onrein diere as slagoffers nie.

 

Jou seun moes jy met ‘n lam loskoop (Genesis 22:13).  Dit is weereens vervul in Jesus wat as die Lam van God in ons plek gesterf het.  Israel moes hulle seuns loskoop en nie offer soos wat die Kanaäniete gedoen het nie (2 Konings 16:3).  Hulle moes ook ‘n bedrag geld betaal om hulle seuns los te koop (Numeri 3:46-47, 18:15-16).  Die volk moes dan ook vir hulle kinders die betekenis hiervan leer:  toe God Egipte se eersgeborenes getref het, het Hy Israel s’n gespaar (v.14-16).

 

Soos Israel haar eersgeborenes vir die Here gegee het (v.1), moet jy jouself en jou beste gee:  “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1).  Hoe kan jy jouself gee?  Vir party mense is Paasfees bloot ‘n jaarlikse tradisie.  Op dieselfde wyse kan ons Sondae onderhou, die nagmaal herdenk, lofsange sing, bid, en ‘n bydrae gee met ‘n koue hart.  Jy kan selfs huisgodsdiens en stiltetyd hou met ‘n koue hart.

 

Dit gebeur gewoonlik as jy nie jouself en jou hart gee nie; as jy dit bloot as ‘n tradisie onderhou, of dié dinge doen maar in sonde leef.  Dawid sê:  “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.  Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:18-19).  Jy kan die Here eer met jou lippe sonder dat jou hart daarin is (Jesaja 29:13).  Moenie jou verhouding met die Here beperk tot ‘n Sondag of tot jou stiltetyd nie.  Dink die hele week en dag na oor wat jy in die preek of jou stiltetyd gehoor en gelees het.  Doen wat God vir jou geleer het.

 

Hoekom moet jy jouself gee?  Jy behoort aan God en nie aan die wêreld nie.  God het jou gekoop om syne te wees.  Hy wil nie hê jy moet ‘n verdeelde hart hê nie (Jakobus 4:4-5, 8, 1 Korintiërs 6:19-20).  God het sy Seun vir jou gegee en wil hê jy moet jouself vir Hom gee (Johannes 3:16).

 

Nick se vrou koop vir hom ‘n vliegtuig vir sy verjaarsdag.  Na ‘n paar weke sien sy vrou hom nie meer nie.  In die oggende is hy vroeg op die vliegveld.  Oor naweke vlieg hy.  Hy gebruik elke moontlike minuut om sy nuwe stokperdjie te geniet.  Net so is dit in ons verhouding met Jesus nie altyd slegte dinge wat ons aandag van Hom weglei nie.  Soms is dit goeie dinge soos Paasfees wat ‘n koue tradisie raak en ons aandag weglei van die opdrag om sy dood gedurig te herdenk in die nagmaal.  Dis wat ek bedoel as ek sê ‘Pasop vir Paasfees’.

Die oorsprong en betekenis van Paasfees

Easter bunny at cross

Hoe, waar en wanneer het Paasfees begin?  Die Christelike wêreld swem met blog inskrywings, artikels, boeke, en DVD seminare wat sê Paasfees is heidens en het sy oorsprong by afgode soos Ishtar en Eostre.  Maar is dit ‘n feit?  Iets is nie outomaties waar net omdat dit gepubliseer is nie.  Buiendien is dié siening nie die enigste geldige opinie nie.[1]  Gelowiges wat op Paasnaweek kerk toe gaan doen dit nie tot eer van een of ander heidense godin nie.  Die herdenking van Jesus se dood het sy oorsprong in Eksodus 12:1-28 wat maar ‘n skadu van die kruis is.

 

Versoening (v.1-13)

David Carmichael vertel van ‘n tradisionele Skotse spele, waarin sterk mans kyk wie ‘n swaar klip of paal die verste kan gooi.  By een spele het ‘n klein kind op die speelveld geloop net toe een van die mans sy gewig gegooi het.  Die swaar klip het reguit op haar afgepeil.  ‘n Groot, sterk man uit die skare het na die kind toe gehardloop en haar met sy rug geskerm.  Die klip het hom getref en seergemaak.  Die kind was veilig.  Op dieselfde wyse het die lam in Eksodus 12, en Jesus in die Nuwe Testament God se toorn afgeweer.  God se toorn het reguit op ons afgepeil.  Jesus het tussen ons en sy eie toorn kom staan.  Soos die paaslam het Jesus ‘n plaasvervangende soendood gesterf.

 

God het sy volk in die maand Abib (Maart-April)[2] uit Egipte gered, en daarom het hulle godsdienstige nuwe jaar in dié maand begin:  nuwe jaar, nuwe begin (v.1-2, Deuteronomium 16:1).  Op die tiende dag van dié maand moes die hoof van elke huis ‘n lam vat (v.3).  Veertig jaar later het die Israeliete op die tiende dag van Abib gereed gemaak om in die nuwe Land in te gaan (Josua 4:19).  Jesus het vyf dae voor sy dood (10, 11, 12, 13, 14) in Jerusalem aangekom en so Eksodus 12:2 vervul (Johannes 12:1, 12).

 

‘n Klein gesin sou nie alleen ‘n lam kon opeet nie, en moes met hulle bure deel (v.4).  Elkeen moes ‘n jaar oue skaap- of boklam sonder gebrek neem (v.5).  Dié vers is vervul in Jesus wat geen sonde gehad het nie (2 Korintiërs 5:21, 1 Petrus 2:22, Hebreërs 7:26).  Daarom noem die Bybel hom ‘n Lam sonder gebrek (1 Petrus 1:19).  Jesus kon dus nie net uit die hemel neerdaal en vir ons sterf nie.  Behalwe dat Hy volkome mens moes word, moes Hy ook eers perfek gelewe het.

 

Die lammetjies is op die 14de dag teen sononder geslag (v.6, Deuteronomium 16:6).  Toe die Israeliete in die Beloofde Land gekom het, het hulle op die aand van 14 Abib die Pasga herdenk (Josua 5:10).  Volgens sommige kommentators verwys die aand hier na die tyd wat die son na die weste toe begin sak; tussen 15:00 en 17:00.  Jesus vervul dié vers omdat Hy die Lam van God is (Johannes 1:29, 1 Korintiërs 5:7), maar ook omdat Hy teen 15:00 gesterf het (Lukas 23:44-46).

 

Die lam se bloed is teen die deurkosyne en bo-drumpel gespat.  Gesinne moes die lam saam met bitter kruie en ongesuurde brood eet (v.7-8).  Die bitter kruie sou hulle aan die bitter slawerny herinner (1:14).  Die bitter mirre by Jesus se kruis moet ons ook aan die bitterheid van sonde herinner (Markus 15:23).  God het gesê dat hulle nie rou- of kookvleis kon eet nie.  Dit was ‘n offer en daarom moes hulle dit met kop, bene en ingewande (afval) braai en eet.  Hulle moes alles eet en die oorskiet tot as verbrand (v.9-10).  Net so moet ons deur geloof Jesus se vlees eet en bloed drink:  ons moet deel hê aan Hom (Johannes 6:53-56).

 

Die volk moes gou eet met hulle gordels vas, skoene aan hulle voete, en staf in hulle hande (v.11).  Dit het hulle herinner dat hulle haastig uit die land uit is, en dat hulle nie daarheen moes terugkeer nie.  Hulle moes nie soos Lot wees wat nie wou vlug nie (Genesis 19:16).  Op dié aand sou God die Egiptenare en hulle gode getref het, om so te wys dat Hý die ware God is (v.12).  By ‘n huis met bloed op die deurkosyne sou Hy verbygaan (v.13, ‘pass over’).  “Deur die geloof het hy die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie.” (Hebreërs 11:28).  Vir ons is dit Jesus se bloed wat God se toorn afweer (Romeine 3:25, 1 Johannes 2:2, 4:10).

 

Doen alles wat jy kan om te sorg dat God se toorn jou en jou gesin op die oordeelsdag verbygaan.  Jy moet jouself eers regkry voordat jy jou gesin kan help.  Jy kan nie God se toorn afweer deur die wet hou, gedoop te word, kerk toe te kom, ‘n lidmaat te word, jou Bybel te lees, te bid, evangelisasie te doen, of opreg te wees nie.  Net Jesus kan God se toorn afweer en vir jou die perfekte rekord gee wat God vereis.  Skuil in Hom deur geloof.  Die Skrif sê:

 

  • “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Johannes 3:36).
  • “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees… Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Romeine 8:1, 33-34).
  • “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Korintiërs 5:21).

 

‘n Stamhoof in die New Hebrides wou vir John Paton doodskiet.  Sy seun het tussen hom en Paton kom staan en gesê:  ‘As pa hom wil skiet moet pa my doodmaak.’  Sy pa het nie geskiet nie.  ‘n Boer se plaas het afgebrand.  Hy het ‘n verskroeide hen op die grond gesien lê.  Toe hy haar met sy voet wegstoot, het die kuikens onder haar vlerke uitgehardloop.  So het Jesus tussen ons en sy eie toorn kom staan.

 

Natuurlik kan ‘n pa nie sy gesin red nie.  Elkeen sal vir homself voor God moet antwoord (Galasiërs 6:5).  Maar ‘n pa kan sy kinders reg leer, vir hulle die weg wys, en vir hulle bid.  As hy dit reg doen is die kanse goed dat hulle gered sal word (1 Korintiërs 7:14, Handelinge 16:31, 18:8).

 

As jy nie in Jesus skuil nie, sal jy in onsekerheid, twyfel en vrees lewe.  As jy op jou werke staatmaak, sal jy altyd wonder of dit aanvaarbaar genoeg is vir God.  As jy egter in Jesus glo, kan jy verseker weet dat God jou sal aanvaar (1 Johannes 5:13).  As God jou verwerp, beteken dit dat Hy sy eie Seun verwerp.

 

Herdenking (v.14-28)

Die Engelse spreekwoord sê:  ‘A picture is worth a thousand words.’  Mense in die advertensiebedryf weet dit.  Daarom sit hulle ‘n prent van ‘n yskoue blik vol druppels buite die winkel, en nie maar net wit letters op ‘n swart bord wat sê:  ‘Koue Coke te koop’ nie.  Die pasga en die nagmaal is prente wat ons help om beter te onthou.

 

Die Jode moes elke jaar die pasga herdenk deur ‘n fees wat vir sewe dae geduur het (v.14, 2 Konings 23:21-23, Esra 6:19).  Gedurende die fees mag hulle nie suurdeeg geëet het nie.  Hulle moes die suurdeeg verwyder.  As hulle dit nie gedoen het nie, is hulle van die volk afsny (v.14-15, 19-20).  Wat was die kwessie?  Toe hulle uit Egipte uit is was daar nie tyd vir die brooddeeg om te ruis nie.  Omdat hulle haastig was, het hulle ongesuurde brood geëet (v.39).  God se volk moes onthou dat hulle haastig uit Egipte uit weg is.  Die eerste en sewende dae van die fees moes as ‘n Sabbat gevier word.  Hulle mag wel op dié dae kos gekook het (v.16).  Die fees wat van 14-21 Abib gehou is het hulle herinner dat God hulle in dié tyd uit Egipte verlos het (v.17-18).

 

Moses het die ouderlinge beveel om die lam te slag (v.21).  Hulle het dit gedoen en die bloed in ‘n bak in laat tap.  Hulle het toe ‘n hisoptak in die bloed gedoop en die deurposte en bo-drumpel daarmee aangeraak.  Toe Jesus aan die kruis was het hulle met ‘n hisoptak vir hom suurwyn aangebied (v.22, Johannes 19:29).  Niemand kon buitentoe gaan nie.  Almal wat nie onder die bloed van die lam was nie, het gesterf (v.22).  Slegs binne die bloedbevlekte huis sou hulle veilig wees teen die Verwoester (v.23, 1 Korintiërs 10:10).

 

Die instruksies om die fees jaarliks te hou het gegeld vir die volk en hulle nageslag in die Beloofde Land (v.24-25).  Hulle moes vir hulle kinders die betekenis van die fees leer (v.26-27, 13:14, vgl. Deuteronomium 6:20-25, 32:7, Josua 4:6).  Die volk het voor die Here gebuig en Hom aanbid (v.27).  Hulle het toe gedoen wat Hy deur Moses beveel het (v.28).

 

Soos die volk hulle verlossing uit Egipte moes herdenk, moet ons Jesus se kruisdood herdenk.  Deesdae wil mense in die Hebrew Roots Movement die Joodse Pasga herdenk.  Ander dink dat hulle God se guns wen as hulle Jesus se dood in die Paasfees herdenk.  Vir sulke mense sê God:  “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kolossense 2:16-17).  “Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.” (Galasiërs 4:10).

 

Ons is nie Jode onder die wet nie.  In die Nuwe Testament het die nagmaal die Pasga vervang (Lukas 22:14-20, 1 Korintiërs 5:7).  Vier die nagmaal en sê vir jou kinders wat dit beteken (v.26-27).

 

[1] Sê vir hulle dat Jesus die brood gebreek het om te wys dat Hy gekies het om sy lewe vir ons te gee (Johannes 10:18).

 

[2] Sê vir hulle dat Jesus die brood gebreek het, omdat sy liggaam met swepe, vuiste, spykers, ‘n doringkroon en ‘n spies gebreek is.

 

[3] Sê vir hulle dat die wyn rooi is omdat Jesus se bloed uit sy liggaam gevloei het om ons sondes te vergewe (Hebreërs 9:22, 1 Johannes 1:7).

 

[4] Sê vir hulle dat die nagmaal ons nie red nie (soos die Katolieke glo), maar dat dit ‘n herdenking van ons redding is.  Jesus het mos gesê:  “doen dit tot my gedagtenis” (1 Korintiërs 11:24).

 

[5] Sê vir hulle dat ons die nagmaal saam met die gemeente vier en nie saam met ons gesin nie, omdat die een brood en een beker ons eenheid met ander gelowiges uitbeeld (1 Korintiërs 10:16-17, 11:33).

 

[6] Sê vir hulle dat net dié wat gered is die nagmaal kan gebruik.  In die Ou Testament is kinders saam met hulle ouers uit Egipte verlos, en kon hulle die Pasga eet.  In die Nuwe Testament is net dié wat weergebore is, op Jesus vertrou en hulle bekeer, gered.  Daarom mag net gelowiges die nagmaal eet en drink.

 

[7] Sê vir hulle dat ons ons harte moet voorberei vir die nagmaal.  Net soos die volk alle suurdeeg uit hulle huise moes verwyder, moet ons die suurdeeg van sonde, vals lering, en skynheiligheid verwyder deur belydenis en bekering (1 Korintiërs 5:6-8, 13, Galasiërs 5:9, Lukas 12:1, Matteus 16:11-12).  In die brood en beker is daar geleentheid om onsself te ondersoek, ons sonde te bely, en God se vergifnis te verkry.  Hy sal ons met hisop reinig (Psalm 51:9).

 

[8] Sê vir hulle dat ons nie net aan ons sonde moet dink nie, maar ook aan die kruis.  Ons moet die Here prys vir ons redding.  Is dit nie die rede hoekom Hy ons gered het nie:  sodat ons Hom kan prys (v.27, Openbaring 5:9)?

 

[9] Sê vir hulle dat die nagmaal, soos die Pasga vir die Jode, ‘n opdrag is en dat ons dit nie moet mis nie (v.28).  As jy van die nagmaal af wegbly sal dit maklik raak om ligtelik om te gaan met sonde.  Jy sal gou vergeet dat dit Jesus se lewe gekos het.  Dalk sal jy depressief raak oor jou sonde, omdat jy nie gereeld in die nagmaal onthou wat Jesus vir jou gedoen het nie.

 

Ek onthou ‘n Paasnaweek saam met my ongelowige familie.  Vir hulle het dié naweek gegaan oor familie, ontspanning, kuier, sjokolade eiers vir die kinders, paashase inkleur, en ‘hot-cross buns’.  Om sjokolade eiers en hase te eet maak jou nie onrein nie (Matteus 15:11).  Maar in die Bybel gaan Pasga oor ‘n lam en Israel wat uit Egipte verlos is.  Dié verlossing is vervul in Jesus.  Buitendien is ons nie tradisionele kerkmense wat net op paasnaweek aan Jesus se kruisdood en opstanding dink nie.  Ons dink daaraan elke keer as ‘n gelowige gedoop word of ons die nagmaal gebruik; elke keer as ons ‘n preek oor die kruis hoor; elke keer as ons die evangelie met iemand deel; elke keer as ons daaroor sing; elke keer as ons ons sondes bely – elke dag.

[1] http://www.christianitytoday.com/ch/bytopic/holidays/easterborrowedholiday.html

[2] Die Jode werk volgens ‘n maankalender.  ‘n Joodse jaar kan korter óf langer as ons s’n wees.  Dus val Paasnaweek nie elke jaar op dieselfde datum nie, maar êrens in Maart of April.

God se oorlog teen die kerk

Sword of God

Wat dink jy van dié stelling:  ‘Jesus, nie Satan nie, maak kerke toe’?  Dis waar.  Jesus het vir Petrus gesê:  “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matteus 16:18).  Vir die kerk in Efese sê Hy:  “[Ek] sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.” (Openbaring 2:5).  Die jare 500-1500 n.C. staan bekend as die donker eeue.  Geestelike duisternis het geheers.  Vir ‘n duisend jaar kon jy skaars ‘n Bybelse kerk op die aarde vind.  Hoe sou dit voel om in daardie tyd ‘n Christen te wees; om te smag na ‘n goeie kerk, maar niks te kry nie omdat God sy kerk geoordeel het?  So was dit in Eli se tyd, voordat God Homself aan jong Samuel bekend gemaak het (1 Samuel 2:12-36).

 

Sonde (v.12-21)

In 1992 het John MacArthur Suid-Afrika vir die eerste keer besoek.  Tydens sy besoek het hy vir 35-jarige Tienie ontmoet.  Tienie was ‘n kapelaan in die grens oorlog en op dié stadium ‘n gesiene predikant van ‘n groot NG-kerk.  Op ‘n dag het hy ‘n preek van MacArthur op die radio gehoor en besef dat hy glad nie ‘n Christen was nie.  God het vir Tienie gered.[1]

 

In Eli se tyd (soos in ons s’n) het elkeen gedoen wat reg is in sy eie oë.[2]  Soos in Jeremia se tyd ná hom, was selfs die priesters korrup en het hulle God nie geken nie (v.12):  “Die priesters het nie gesê:  Waar is die HERE nie?  En die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie” (Jeremia 2:8).  “Daarom sal dit met die priester gaan soos met die volk—Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade.” (Hosea 4:9).  Eli se seuns, Hofni en Pinehas, was deugniete – nikswerd.  Die Hebreeus praat van hulle as ‘seuns van Belial’ (vgl. 2 Korintiërs 6:15).  Volgens die wet moes hulle die vet van die vleis afsny en dit vir die Here offer.  Hulle kon die bors en regterdy eet.[3]  Hulle was rebels en het ‘n drietand-vurk in die pot gesteek, sodat hulle nóg vleis kon kry.  Ook was hulle nie tevrede om die vleis te kook nie; hulle wou dit braai.  Hulle het mense gedwing om die rou vleis vir hulle te gee en het selfs die verbode vet[4] gevat – soms met geweld.  As ‘n man in diens van God, was die priester se sonde erger as ander mense s’n.  Die beginsel van Jakobus 3:1 en Lukas 12:47-48 het hier gegeld:  “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan… En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.” Is dit nie wat koning Alphonsus bedoel het nie:  ‘A great man cannot commit a small sin’?

 

Ten spyte van die korrupte priesters was daar ‘n flikkering van hoop:  klein Samuel in sy skouerkleed en manteljie wat sy ma vir hom gemaak het.  Omdat sy hom vir die Here geleen het, het die Here haar (die onvrugbare vrou van 1:5) met nog vyf kinders geseën.  ‘We will not become too discouraged over Hophni and Phinehas so long as we see little Samuel walking around Shiloh.’[5]

 

Hoe sal ons op dié verse reageer?  Moenie aanneem dat jy gered is omdat jy gedoop is, ‘n lidmaat, ouderling, of ‘n ou Baptis is nie.  Moenie dink jy’s gered omdat jou ouers toegewyd was, jy op ‘n altar call gereageer het, baie bid, of Bybel kollege toe was nie.  Eli se seuns het God nie geken nie, al was hulle priesters (v.12)!  Haat jy sonde en is jy gehoorsaam aan Christus?  Dís die bewys of jy gered is of nie.  Indien jy nié gered is nie moet jy jou bekeer en jou sonde by die kruis los.  Verruil deur geloof jou smerige self-geregtigheid vir Jesus se volmaakte geregtigheid.

 

Eli se seuns het ‘n bespotting gemaak van die offers (v.17).  Moenie soos hulle wees en ‘n bespotting van die nagmaal maak nie.  As jy en jou kinders die nagmaal gebruik sonder om te verstaan waaroor dit gaan, maak jy dit belaglik.  As jy die nagmaal gebruik, maar nie jou sonde en bitterheid wil laat staan nie, maak jy ‘n bespotting daarvan.  As jy dink jou goeie lewe maak jou waardig om die nagmaal te gebruik, sodat jy op jou eie geregtigheid en nie op Jesus s’n rus nie, maak jy ‘n bespotting daarvan.  As jy ‘n Christen is maar gedurig van die Tafel af wegbly, dan minag jy dit.

 

Hoekom is dit belangrik dat jy jou moet bekeer?  Die Bybel antwoord:

 

  • “Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.” (1 Korintiërs 11:29-31).
  • “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.” (1 Petrus 4:17).
  • “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie… Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond… Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie… Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie… Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.” (Openbaring 2:5, 16, 23, 3:3, 16).

 

Oordeel (v.22-36)

‘n Paar weke gelede het ek vir my vrou gesê:  ‘Kinders is sondaars.  Ek gee nie om as hulle stout is, en hulle ouers hulle pak gee nie.  Wat my pla is as hulle stout is en die ouers dit sien, maar niks doen nie.’  Die beste Christen sal sondig ná hy of sy tot bekering gekom het.  Maar dit vervuil God se heilige Naam as ‘n Christen sondig en ons dit sien, maar niks sê of doen nie.  As óns nie die sonde in ons kinders en kerke oordeel nie, sal Gód dit doen en ons daarby straf.[6]

 

Die Hebreeuse werkwoorde in v.22-25 staan in ‘n voortdurende tydsvorm:

 

[1] Eli het aanhoudend gehoor dat sy seuns sondig en met die vroue slaap wat by die ingang van die tabernakel gewerk het[7].

 

[2] Hy het aanhoudend vir hulle gesê om op te hou:  “As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ‘n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree?” (v.25).  Iemand wat teen ‘n ander mens sondig kan ‘n offer bring en vergifnis vra.  Maar wat doen iemand wat die óffer minag – hoe word hý vergewe?  So iemand sondig met ‘n hoë hand (Numeri 15:27-31).  Vir Nuwe Testament Christene is daar die kruis.  Maar wat gebeur met iemand wat die kruis minag?  Is dit nie waarteen Hebreërs 10:26, 29 waarsku nie:  “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie… hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”?

 

[3] Hulle het hulle pa aanhoudend geïgnoreer en nie vir hom geluister nie.  Eli het sy seuns aangespreek, maar hulle nie uit hulle priesterlike amp verwyder nie.  Hoekom het hulle nie vir hulle pa geluister nie?  Die teks sê:  “Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.” (v.25).  Omdat hulle aanhoudend hulle harte verhard het, het God hulle oorgegee aan wat hulle wou hê en hulle harte verhard.  Hulle kón hulle nie meer bekeer nie.[8]

 

In kontras hiermee was die seuntjie van v.18 nou ‘n jongman.  Soos Jesus in Lukas 2:52, het hy “toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense.” (v.26).  Die soort mens wat guns by God vind is nederig en vrees sy Woord (Jesaja 66:2), glo in Hom (Hebreërs 11:6), het wysheid (Spreuke 8:35), en leef regverdig (Genesis 6:8-9).

 

‘n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê:

 

‘God het hom in Egipte aan jou voorvader Aäron geopenbaar.[9]  Sy nageslag is gekies om as priesters by die altaar te dien, wierook te brand, die skouerkleed te dra, en offers te eet.[10]  Maar jy en jou seuns het my offers verag soos ‘n kalf wat teen sy eienaar skop.[11]  Julle het die vet gevat en julle ooreet.[12]  Jy het jou seuns bo my geëer.[13]  Ek sal jou familie uitsluit uit die belofte wat ek aan Aäron gemaak het, “dat hulle die priesteramp kan besit as ‘n ewige insetting.” (Eksodus 29:9).  So seker as Ek leef sal dit gebeur[14].  Wie My eer sal Ek eer, maar as iemand My verag sal Ek hom verwerp.  Almal in jou nageslag sal jonk sterf – vat my Woord daarvoor.[15]  Binnekort sal jy benoud wees oor my woning.[16]  Een uit jou nageslag sal sy oë uit huil en sy hart breek as ek jou nasate uitroei.[17]  Wat is teken dat hierdie dinge sal gebeur?  Altwee jou seuns sal op een dag sterf.[18]  Ek sal vir Myself ‘n getroue priester kies wat sal doen wat Ek begeer; een wat vir ewig voor my gesalfde koning sal dien.[19]  Jou nageslag sal vir brood bedel en nie meer die offervleis eet nie.’

 

In die lig van v.22-36 moet ons die sonde in die kerk en in ons huise oordeel.  Om dit reg te kry moet jy jou kinders in toom hou terwyl hulle jonk is.  Die pyn van ‘n pak slae maak ‘n indruk as hulle klein is.  “As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.” (Spreuke 22:15).  Dit help nie net jy praat nie – hulle moet die pyn voel.  “Met woorde laat ‘n slaaf hom nie waarsku nie; want hy verstaan dit wel, maar hy steur hom daar nie aan nie.” (Spreuke 29:19).  So is dit ook met kinders.  As jy hulle nie tugtig nie, sal jy verseker die bitter vrugte van rebelsheid pluk as hulle groot is.  As jy hulle reg opvoed en tugtig sal jy rus hê vir jou siel.  “Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf. (Spreuke 29:17).  “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.  En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Galasiërs 6:7-9).

 

Wat van kerktug?  Ons móét dit beoefen.  Ons moet dit doen met nederigheid, sagmoedigheid, liefde, en vrees vir God.  Die Bybel sê:

 

  • “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” (Galasiërs 6:1-2).
  • “Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.” (Matteus 7:5).
  • “En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.” (Matteus 18:15-17).
  • “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.” (Openbaring 3:19).

 

Dink jy dat kerktug die ouderlinge se werk is?  Ja, húlle moet dit lei.  Maar sal jy soos Kain sê:  ‘Ek is nie my broer se oppasser nie’ (Genesis 4:9)?  Hoekom is dit belangrik om sonde in ons huise en kerke te oordeel?  Die Here sê:

 

[1] “Ek [gaan Eli se] huis oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet het; want toe sy seuns skande oor hulleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie.” (3:13).

 

[2] “En as ‘n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek ‘n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.  Maar as jy die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered.” (Esegiël 3:20-21).

 

[3] “Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.” (Jakobus 5:19-20).

 

[4] “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” (Spreuke 13:24).

 

[5] “Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.  Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” (Spreuke 23:13-14).

 

[6] “Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” (Spreuke 29:15).

 

As jy nalaat om sonde te oordeel, dan eer jy mense bo God (v.29).  ‘…you can end up in grave sin thinking it very important to be nice to people… If the true church is to be preserved her false servants must be removed.’[20]

 

In Arthur Pink (1886-1952) se dae was goeie kerke skaars.  Pink het gedink daar is geen goeie kerke nie, maar daar was ‘n paar.[21]  So is dit in ons tyd.  In Suid-Afrika is daar nie baie kerke wat ernstig is oor heiligheid, die suiwer evangelie en Bybelse prediking nie.  Hier en daar is ‘n paar Samuels; “enkele persone…wat hulle klere nie besoedel het nie” (Openbaring 3:4).  Mag óns so ‘n kerk wees.

[1] Iain Murray, John MacArthur: Servant of the Word and Flock, p.159

[2] “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.” (Rigters 21:25).

[3] Levitikus 7:29-34

[4] Levitikus 7:22-25

[5] Dale Ralph Davis, 1 Samuel: Looking on the Heart, p.32

[6] “Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet.” (Openbaring 2:20).

[7] Eksodus 38:8

[8] ‘Notice that it was the Lord’s will to slay them for disobedience, but not the Lord’s will that they should be disobedient.’ (A.M. Stibbs, ed., Search the Scriptures, Inter-Varsity Press, LEICESTER, 2003, p.214, n.3).

[9] Eksodus 4:27-30

[10] Eksodus 28:1, 30:7, Levitikus 8:7-8, 10:14-15

[11] Die Hebreeus vir ‘verag’ in v.29 is bâ’at en beteken ‘skop’ (vgl. Deuteronomium 32:15).

[12] Eli was oorgewig (4:18).

[13] “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.” (Matteus 10:37).

[14] 1 Konings 2:26-27

[15] 1 Samuel 22:18-19

[16] “[Eli] was besorg oor die ark van God… Net toe [die man] melding maak van die ark van God, val [Eli] agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het; want die man was oud en swaar.” (1 Samuel 4:13-18).  “God het dit gehoor en toornig geword, en Hy het Israel heeltemal verwerp.  En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense.  En Hy het sy sterkte oorgegee in gevangenskap en sy heerlikheid in die hand van die teëstander.  En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel.  Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie. Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie.” (Psalm 78:59-64).

[17] “Abjatar [het] aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die HERE vermoor het” (1 Samuel 22:21).

[18] 1 Samuel 4:11, 17

[19] 1 Konings 2:35, Hebreërs 5:6, Psalm 89:20

[20] Davis, pp.36-37

[21] Iain Murray, The Life of Arthur W. Pink, hoofstuk 10

My kind vra oor die doop en die nagmaal (riglyne vir ouers en grootouers)

Child baptism

Elke ouer wil die beste vir sy kind hê.  Daarom kyk ons maklik hullefoute mis.  ’n Vrou in Nelspruit het vir my gesê:  ‘Ek weet my 13-jarige is nóú rebels, maar hy het sy hart vir die Here gegee toe hy 5 was.’  As dit jóú kind is, erken jy moeilik dat syne waarskynlik ’n vals bekering was.  Ons glo gou dat kinders wat die sondaarsgebed opsê of ‘hulle harte vir die Here gee’ (‘n frase wat nêrens in die Bybel voorkom nie) tot bekering gekom het.  Dit is reg om bly te wees as hulle ’n sondebesef het – dit is immers noodsaaklik vir ware bekering.

 

Maar sonde oortuiging op sy eie is nie genoeg nie.  Ongelowige Feliks het gesidder toe Paulus van God se oordeel gepraat het.[i]  Die demone self glo God is Een, en sidder.[ii]  Iain Murray is reg:  ‘to be awakened is not the same as to be saved.’[iii]  Eers as jou kind weergebore is, die evangelie glo, en weggedraai van sonde, is hy of sy reg om gedoop te word en die nagmaal te gebruik.  Oorweeg gerus die volgende riglyne om te sien of jou kind gereed is:

 

Jou kind hoef nie handboek antwoorde te gee nie, maar hy moet ’n basiese begrip van die evangelie hê.

 

  • Weet hy hy gaan nie hemel toe omdat hy ‘sy hart vir die Here gegee het’, in God glo, die Bybel lees, bid, kerk toe gaan, die Tien Gebooie gehoorsaam, of opreg is nie?
  • Weet hy ’n mens gaan hemel toe omdat Jesus aan die kruis gesterf het vir sondaars, begrawe is en opgestaan het uit die dood?
  • Weet hy hy ontvang vergifnis en verlossing deur dít te glo en op Jesus te vertrou?

 

Dit moet duidelik wees dat jou kind die vrug van bekering dra.

 

  • Is hy regtig jammer as hy gesondig het – jammer dat dit God bedroef en nie net omdat hy die gevolge wil vryspring of skuldgevoelens haat nie?
  • Bekeer hy hom van sy sonde?
  • Is hy lief vir die Bybel en verstaan hy as dit gelees en gepreek word?
  • Bid hy? Word sy gebede beantwoord?
  • Sien hy uit om kerk toe te kom om met maatjies te speel, of omdat hy die Here wil aanbid, die Woord wil hoor en ander Christene wil sien?
  • Sien ander mense die vrug van bekering in sy lewe?

 

Jou kind moet verstaan waaroor die doop en die nagmaal gaan.

 

  • Weet hy dat die doop en die nagmaal niks tot sy saligheid bydra nie?
  • Weet hy dat die doop die reiniging van sy sondes, asook sy begrafnis en opstanding saam met Jesus uitbeeld?
  • Weet hy dat die nagmaal ons aan Jesus se soendood herinner: die brood spreek van sy liggaam wat vir ons gebreek is en die druiwesap van sy bloed wat ons sondes weg was?
  • Weet hy dat die doop en die nagmaal, sonder geloof, geen waarde vir sy siel het nie?
  • Weet hy dat hy sy sonde moet haat en laat staan as hy na die nagmaaltafel toe wil kom?

 

Wat sal gebeur as jou kind nog nie gered is nie, maar gedoop word en die nagmaal gebruik?

 

  1. Hy sal vals sekerheid hê en dínk hy is gered, omdat hy gedoop is. Dalk word hy een van dié wat vir Jesus sê: ‘Here, Here!’, maar nie die koninkryk van God sal ingaan nie.[iv]
  2. Omdat sy getuienis en leefwyse nie ooreenstem nie, sal Hy die Here se Naam beskadig.
  3. Sy aksie in die doopbad en by die nagmaaltafel bely dat hy gered is, maar sy lewe lyk nie soos ‘n Christen s’n nie. Hy leer om skynheilig te wees en bring sodoende ‘n swaarder oordeel oor homself.
  4. In jare wat kom sal hy ‘n lidmaat van die kerk of dalk selfs ‘n ouderling word. As ongelowige sal hy eindelose probleme veroorsaak.
  5. As dinge sleg gaan sal hy ‘n weersin kry in die Here en die kerk: ‘Hoekom help die Here my nie – my doop bewys dan dat ek gered is?’
  6. Hy maak ‘n bespotting van die doop en die nagmaal, omdat hy deelneem aan heilige dinge, maar nie sy sonde wil los nie. God sal hom met siekte of selfs die dood straf.[v]
  7. Ander kinders sal sy slegte voorbeeld volg. Hulle sal vra om gedoop te word en die nagmaal te gebruik, terwyl hulle nog ongered is. Hulle sal die gevolge van hulle verkeerde keuses moet dra.
  8. Wanneer hy eendag groot is sal hy sý kinders in die kerk groot maak. Hulle sal sy dubbele lewe sien, dink dat dít Christenskap is, en die Here en sy kerk verafsku.
  9. In die toekoms sal hy toelaat dat sý ongeredde kinders gedoop word en die nagmaal gebruik. Hulle sal dieselfde bitter vrugte pluk as hy.Die Here beskou die doop en die nagmaal as ernstige sake. Ons moet ook, en ons kinders moet dit weet. As jy jou kinders reg leer en self die voorbeeld stel, glo ek dat die Here hulle sal red.[vi] As jy hulle dán doop en toelaat by die nagmaal tafel, sal jy én jou kinders julle in die Here verbly.

 

[i] Handelinge 24:25

[ii] Jakobus 2:19

[iii] Revival and Revivalism, p.209.

[iv] Matteus 7:21-23

[v] 1 Korintiërs 11:27-30

[vi] Genesis 18:19, Maleagi 2:15, 1 Korintiërs 7:14

‘n Portret van die kruis

Bread and wine

Oor die jare is daar baie films oor Jesus gemaak.  Tog is die enigste sigbare herinnering wat Jesus nagelaat het, die nagmaal.  Dis as’t ware ‘n portret van die kruis.

 

14 En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. 15 En Hy sê vir hulle:  Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. 16 Want Ek sê vir julle:  Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. 17 En toe Hy ‘n beker geneem het, dank Hy en sê:  Neem dit en deel dit onder julle. 18 Want Ek sê vir julle:  Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. 19 Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê:  Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. 20 Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê:  Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. 21 Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel. 22 Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word! 23 Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen.” (Lukas 22).

 

Die Pasga (v.14-18)

Jesus was in die bo-vertrek saam met sy dissipels (v.11-13).  Volgens Midde-Oosterse gebruik, het Hy op sy een sy langs die plat tafel gelê (v.14).  Matteus sê vir ons dit was aand (Matteus 26:20).  Die nagmaal moes uitbeeld dat die Lig van die wêreld deur die duisternis oorweldig is (Johannes 3:19, 8:12, Lukas 22:53).  Johannes speel met woorde wanneer hy skryf:  “Toe hy [Judas] dan die stukkie geneem het, het hy dadelik uitgegaan.  En dit was nag.” (Johannes 13:30).

 

Jesus het ernstig begeer om hierdie laaste Pasga saam met sy dissipels te eet.  Hy het dit begeer juis omdat dit die laaste feesmaal saam met sy dissipels sou wees.  Hy sou eers weer in die hemel saam met hulle aan tafel sit om sy dood te onthou (v.15-18, Matteus 8:11).  Die tipiese orde en formaat van die Pasga sou soos volg wees:

 

[1] Iemand het ‘n seën- en dankgebed gedoen.  Daarna het hulle die eerste beker wyn gedrink.  Hulle het kruie en sous vir voorgereg gehad.

 

[2] Iemand in die huis het die geskiedenis van Israel se uittog uit Egipte vertel:  ‘God het sy volk beveel om in hulle huise te bly.  Hulle moes ‘n lam slag en die bloed teen die deurkosyne smeer met ‘n hissoptakkie.  Die lam moes gebraai word.  Hulle moes alles opeet.  Daar was nie tyd vir die deeg om te gis nie.  Hulle het dus ongesuurde brood met bitter kruie geëet.  Hulle moes haastig uit Egipte wegkom.  Die aand voor hulle vertrek het God die eersgeborenes van Egipte doodgemaak.  As God bloed op die deurkosyne gesien het, het Hy nie die eersgeborenes in daárdie huise getref nie.  Die Israeliete het voor sonop opgepak en getrek.’  Die huisgesin het dan Psalm 113 gesing en die tweede beker wyn gedrink.

 

[3] Na nog ‘n gebed het die gesin ‘n gebraaide lam, ongesuurde brood en bitter kruie geëet.  Weer het iemand gebid.  Daarna is die derde beker wyn gedrink (v.17).

 

[4] Die huisgesin het Psalm 114-118 gesing en die vierde beker wyn gedrink (v.20, Matteus 26:30).

 

Jesus het die Pasga vervul.  Hy is die Paaslam wat geslag is (1 Korintiërs 5:7).  Die Paaslam moes vir 5 dae gehou word voor die Fees (Eksodus 12:3).  Jesus het 5 dae voor die Paasfees in Jerusalem ingekom (Johannes 12:1, 12).  Die Paaslam moes met skemer geslag word (Eksodus 12:6).  Jesus het 15:00, die tyd van die aandoffer, sy asem uitgeblaas en gesterf (Lukas 23:44-46).  Die doodsengel het die bloed op die deurkosyne gesien en nie die Israeliete se eersgeborenes doodgemaak nie (Eksodus 12:13).  God sien ons in Christus en veroordeel ons nie (Romeine 8:1).  Die Israeliete het uit Egipte uitgetrek (Eksodus beteken uittog).  Jesus het gekom om ons uit die slawerny van sonde te bevry (9:31, die Griekse woord hier is eksodus).

 

Net soos Jesus, moet jý ‘n sterk begeerte hê om hierdie ete saam met Hom te hê (v.15).  Begeer om gemeenskap met Hom te hê in die nagmaal en in die hemel.  Moenie, wanneer jy by ‘n diens opdaag en die tafel gedek sien, sê:  ‘Oooo!  Ek het vergeet dis nagmaal!’ nie.  Berei jou hart voor deur gebed en belydenis.  Vra vir ‘n diep liefde, toewyding en begeerte na Christus.  Dank God vir Jesus se kruisdood vir jou.

 

Die nagmaal (v.19-23)

In hierdie verse stel Jesus die nagmaal in.  Elke woord is gelaai met betekenis:

 

  • Hy het brood vir sy dissipels gegee.  Hy self is die Brood van die Lewe wat ons versadig (Johannes 6:35).
  • Hy het sy Vader gedank vir die brood, en daardeur eintlik gedank vir ons redding deur sy kruisdood.
  • Hy het die brood gebreek.  Maar hoekom, as Johannes 19:33, 36 duidelik sê dat Jesus se bene nie gebreek is nie?  Jesaja 53:10 sê dat die Vader Hom gebreek het vir ons sondes.  Toe God die verbond met Abram gemaak het (Genesis 15), moes hy die diere in die helfte sny.  Sonder woorde het God deur hierdie aksie gesê:  ‘As Ek hierdie verbond breek sal Ek afgesny word van die land van die lewendes; sal Ek gebreek word’.  As gevolg van ons sonde het ons verdien om so in die helfte gesny te word; om afgesny te word (Jeremia 34:18-19).  Maar Jesus se liggaam is ‘gebreek’; is in ons plek afgesny van die land van die lewendes.
  • Jesus self het die brood vir sy dissipels gegee.  Niemand het self die brood gevat nie.  Niemand het Jesus se lewe van Hom af geneem het nie.  Hy het dit vrywilliglik opgeoffer (Johannes 10:18).
  • Jesus het die brood vir sy dissipels gegee.  Dit impliseer dat sy kruisdood plaasvervangend was – in ons plek.
  • Jesus het die brood vir hulle gegee.  Die nagmaal was nie vir ongelowiges nie.  Jesus het sy lewe vir sy uitverkorenes, sy kerk, sy skape afgelê (Efesiërs 5:25, Johannes 10:11).
  • Jesus het gesê hulle moet die nagmaal gebruik tot sy gedagtenis (v.19).  Hulle moes dit gebruik totdat Hy in sy Koninkryk kom (v.18, 1 Korintiërs 11:26).  Dan is die Heilsleer (Salvation Army) verkeerd om nie die nagmaal te vier nie.
  • Wanneer Jesus van die brood en beker praat as sy liggaam en bloed, (dit is my liggaam) gebruik Hy beeldspraak.  Die Katolieke glo dat die brood en wyn regtig in Jesus se liggaam en bloed verander wanneer die Priester daaroor bid (transsubstansiasie is die groot woord).  Dis onsin.  Niemand glo Jesus het takke en blare of is van hout gemaak, omdat Hy gesê het:  ‘Ek is die deur vir die skape…Ek is die ware wingerd’ nie (Johannes 10:7, 15:1).  Onthou ook Dawid se woorde:  “Toe het die drie helde deur die laer van die Filistyne gebreek en water geskep uit die put van Betlehem wat by die poort was, en dit gedra en na Dawid gebring; maar hy wou dit nie drink nie, en het dit tot eer van die HERE uitgegiet en gesê:  Dit is ver van my, HERE, dat ek dit sou doen!  Sou ek die bloed drink van die manne wat met lewensgevaar gegaan het?  En hy wou dit nie drink nie.  Dit het die drie helde gedoen.” (2 Samuel 23:16-17).  Dawid praat van die water as sy dapper soldate se bloed.  Almal weet hy gebruik beeldspraak.  Niemand dink die water was regtig bloed nie.  Jesus gebruik dieselfde vorm van spraak.  Die brood en wyn kan nie letterlik sy liggaam en bloed wees nie, want Hy staan in lewende lywe voor hulle oë.
  • Jesus het die beker vir sy dissipels gegee (v.20).  ‘n Paar ure later (in die tuin van Getsemane) vra Jesus dat die beker by Hom sal verbygaan (v.42).  In die Ou Testament praat die beker van God se oordeel (Jeremia 25:15-27).  Jesus het die beker van oordeel gedrink, sodat ons die beker van verlossing kan drink.
  • In die beker is die vrug van die wingerd.  In die Ou Testament is Israel die wingerd wat suur druiwe dra; wat nie die vrug van bekering lewer nie (Jesaja 5).  God se vyande is soos druiwe wat in ‘n parskuip gegooi en vertrap word (Jesaja 63).  Jesus is die ware wingerd (Johannes 15).  Hy werk die vrug van bekering in ons en word namens ons vergetrap in God se parskuip.
  • Die beker is die nuwe testament in sy bloed.  Jesus se bloed praat altyd van sy dood.  Sy bloed red ons van sonde en bring vergifnis.  Ons verdien om te sterf, maar Hy kry die straf namens ons.  Die bloed in Eksodus 12:22 het gewys:  ‘Ons verdien om te sterf, maar ‘n onskuldige lam sterf namens ons’.  Sonder bloedvergieting kan sonde nie vergewe word nie (Hebreërs 9:22).  Jesus se bloed is dan nie ‘n towerformule nie.  Sy bloed is gestort om jou van God se toorn te beskerm; nie om jou huis van diewe of jou kar van ongelukke te beskerm nie (‘Here, ek pleit die bloed oor my kar’).
  • Die beker is die nuwe testament in sy bloed.  ‘n Testament raak eers geldig as die een wat die testament gemaak het doodgaan (Hebreërs 9:16-18).  Ons kan nou die hemel as erfdeel verkry (soos wat die nuwe testament stipuleer), omdat Jesus gesterf het.
  • Judas se hand was saam met Jesus s’n in die sousbeker (v.21, Markus 14:20).  Dit was die teken dat hý vir Jesus sou verraai.  God het die verraad en kruisdood bepaal en voorspel (v.22, Psalm 41:10, Johannes 13:18, Handelinge 4:27-28).  Maar tog was Judas verantwoordelik vir sy eie sonde (v.22).  Niemand het vir hom gesê om te sondig nie.  Hy het self gekies.  Omdat Judas geweet het wat reg is en nogsteeds sy rug daarop gedraai het, is sy straf soveel groter.  Dit sou beter gewees het as hy nooit gebore is nie (Markus 14:21).

 

Jesus se liggaam is gebreek, sy bloed is gestort vir ons sonde.  Omdat dít so is moet ons nie sonde ligtelik opneem nie.  Ondersoek jou hart, bely jou sonde en bekeer jou daarvan voordat jy aan die nagmaal deelneem (1 Korintiërs 11:28).  Moenie soos Judas skynheilig wees as jy by die tafel aansit nie.  Judas het sy bose motiewe so goed weggesteek, dat geeneen van die ander dissipels eers vermoed het hý is die verraaier nie.  Toe Jesus sê dat een van sy dissipels Hom sou verraai, het niemand gesê:  ‘Is dit Judas?’ nie, maar ‘Is dit ek?’ (Matteus 26:22).  God sal jou straf as jy met Judas se hart by die tafel aansit (1 Korintiërs 11:29-32).

 

Omdat die nagmaal net vir gelowiges bedoel is (v.19, julle), moet ons seker maak dat ons kinders dit nie ligtelik gebruik nie.  Ons kinders moet die evangelie glo, die vrug van bekering dra, en verstaan waaroor die nagmaal gaan, voordat ons die sakrament vir hulle gee.  As jy ‘n gelowige is moet jy dit gebruik.  Jesus het dit beveel (v.19).  Gelowiges wat sê:  ‘Ek sondig te veel en sal die nagmaal gebruik as ek beter lewe’, is soos ‘n siek persoon wat sê:  ‘Ek is siek en sal die dokter besoek as ek beter word’.  Die Hemelse Geneesheer het mos juis die nagmaal ingestel, sodat jy sonde sal haat en vergewe kan word.

 

Beleef dan met al vyf jou sintuie hierdie portret van die kruis.  Smaak en ruik die soet druiwesap; dink aan die soet nuwe lewe wat Jesus vir jou gee.  Smaak en ruik die ongegiste brood; onthou dat Jesus die suurdeeg van sonde uit jou hart wil verwyder (1 Korintiërs 5:6-8).  Sien die rooi druiwesap; onthou dat Jesus sy bloed gestort het vir jou sonde.  Hoor hoe die ongesuurde brood onder jou tande breek; onthou dat sy liggaam vir jou gebreek is.  Voel hoe die druiwesap jou droë keel natmaak; dink daaraan dat Hy jou geestelike dors les en jou honger stil (Johannes 6:53-56).