Die nuwe hemel en aarde

New heavens and earth

Natasha woon in ‘n baie arm gedeelte van Rusland.  Sy was nog nooit buite haar land se grense nie, en kan ook nie ‘n woord Engels praat nie.  Op ‘n dag toe ontmoet sy vir Pete, ‘n Amerikaner wat vir vyf jaar in Rusland gewerk het.  Hy kon vlot Russies praat.  Hulle het vriende geraak en uiteindelik met mekaar getrou.

 

A.g.v. Natasha se huwelik met Pete, het sy maklik Amerikaanse burgerskap verkry.  Sy kon egter nie die taal praat nie, en moes aan die kultuur gewoond raak.  Maar na tien jaar in die land kon sy vlot Engels praat, en het sy die kultuur aangeleer.  Wat sy aanvanklik net in teorie gehad het, het sy nou in die praktyk geniet.

 

En so is dit ook met die nuwe hemel en aarde.  Daar is ‘n sekere sin waarin ons reeds in die nuwe skepping deel.  Maar in ‘n ander sin sal ons eers die volheid daarvan geniet wanneer Jesus kom.  Dit is wat Johannes in Op.21:1-8 vir ons wil leer.

 

Die nuwe skepping (v.1)

Om een of ander rede het mense die idee dat God se kinders vir ewig in lugkastele gaan woon, gaan rond sweef, op wolke gaan sit, en op goue harpe gaan speel.  Is dit enige wonder dat baie mense nie ‘n begeerte het om daar te wees nie?

 

Die waarheid is eerder dat Jesus die hemelruim met sy sterre en planete, en die aarde met sy bome, berge, riviere, blomme, watervalle, diere, ens. gaan nuut maak.  Dit is o.a. hoe ons v.1 moet verstaan.

 

Johannes het ‘n nuwe hemel en aarde gesien; die eerste hemel en aarde het voor die Here weggevlug (v.1, 20:11).  Hy het dit gebrand en uit die rou materiaal die nuwe hemel en aarde geskep (2 Pt.3:10, 12-13).  Dit is dus nie soos die eerste skepping uit niks gemaak nie (Rm.4:17, Heb.11:3).

 

Soos Hy ons liggame uit die graf uit sal opwek, sal Hy ook die huidige hemel en aarde ‘opwek of wederbaar’ (Mt.19:28).  Alhoewel die nuwe hemel en aarde eers by die wederkoms vervul sal word (v.1), het dit reeds in saadvorm by Jesus se kruisdood begin.  Ons ervaar alreeds iets hiervan wanneer wedergeboorte in ons harte plaasvind:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel” (2 Kor.5:17a).

 

Maar die evangelie stop nie by die redding van sondaars nie.  Omdat Adam se sonde die skepping beïnvloed het (Gn.3:14, 17-18, Rm.8:19-22), sal Jesus die hemel en aarde van Gn.1:1 nuut maak (v.1, Hd.3:21, Kol.1:20).  Die see van die eerste skepping wat mense se dood veroorsaak het (20:13), sal nie meer bestaan nie (v.1).  Maar dit beteken nie dat daar nie ‘n nuwe, skadelose see sal wees nie.

 

Die nuwe Jerusalem (v.2-3)

Elke jaar is daar ‘n Baptiste Paaskonferensie op Cornelia, ‘n klein dorpie in die Vrystaat.  Daar is goeie prediking en heerlike samesang.  Een van die liede wat gesing word, gaan oor die Nuwe Jerusalem.  Dit is ‘n pragtige lied, maar daar is een sin in die lied wat nie Bybels is nie:  ‘Jerusalem, ewig daarbo.’

 

Volgens Op.21:2 sal die Nuwe Jerusalem nie vir ewig daarbo wees nie, maar sal dit na die aarde toe neerdaal.  Die stad verwys natuurlik na die mure, geboue, paleise, poorte en strate (v.9-27, Jh.14:2-3, Heb.11:10, 16, 13:14), maar dit verwys eintlik meer na die inwoners.  Ons is tog die hemelse Jerusalem en die bruid van die Lam (v.2, 9, 19:7-8, Ef.5:31-32, Heb.12:22).

 

Volgens v.2 en 9-27, sal die Nuwe Jerusalem – die huidige hemel – van God af na die aarde toe neerdaal, en die hoofstad van die nuwe aarde wees.  Die stad se hemelse afkoms beteken ook dat ons siele eendag saam met Jesus na die aarde toe sal terugkeer (v.2, Kol.3:4, 1 Ts.3:13, 4:14).  As Hy klaar ons liggame uit die graf uit opgewek en verheerlik het, sal Hy ons siele daarmee verenig (1 Kor.15, 1 Ts.4:13-18).

 

Omdat ons in ‘n sekere sin die Nuwe Jerusalem is, impliseer v.2 ook dat die kerk ‘n hemelse oorsprong het, en dat sy van God af kom.  Ons uitverkiesing, verlossing, wedergeboorte, roeping, regverdiging, heiligmaking, verheerliking kom van God af; ons is burgers van die hemelse Jerusalem (Jh.3:3, 5, Rm.8:29-30, Gal.4:26, Fil.3:20).

 

Volgens Johannes het die Nuwe Jerusalem gelyk soos ‘n bruid wat mooi gemaak is vir haar man (v.2, Jes.61:10).  Jesus het m.a.w. die stad voorberei (Jh.14:2-3).  Deur sy kruisdood, wedergeboorte en die Woord, het Hy ons ook vir Homself voorberei (19:7-8, Ef.5:25-27).

 

God het met ‘n harde stem uitgeroep dat Hy sy tabernakel onder ons opgeslaan het (v.3, Lv.26:11-12).  Dit het begin toe Jesus as mens in Betlehem gebore is (Jh.1:14, Gk.).  Toe Hy na die hemel toe opgevaar het, het Hy persoonlik deur die Heilige Gees in ons harte kom woon (v.3, Mt.28:20, Jh.14:21, 23).

 

Wanneer ‘n gelowige sterf en hemel toe gaan, en wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, sal sy teenwoordigheid tasbaar wees; Hy sal sy tabernakel oor die persoon sprei en hom veilig hou (v.3, 7:15).  Hy sal die Here van aangesig tot aangesig sien (v.3, 22:4, Mt.5:8, 1 Jh.3:2).

 

Die gemeenskap en die verbond wat in Gn.3 verbreek is, sal heeltemal herstel word (v.3).  Dit het reeds by Jesus se kruisdood begin (Jer.31:33, 2 Kor.6:18, Heb.8:10), maar sal in die hemel en op die nuwe aarde finaal vervul wees (v.3).  Ons – die Jode en heidene wat in Jesus glo – sal sy volk wees, en Hy sal ons God wees (v.3, 5:9, Tit.2:14, 1 Pt.2:9)

 

Die nuwe lewe (v.4-8)

Eric Clapton sing ‘n bekende liedjie waarin hy sê dat daar nie trane in die hemel is nie.  Ek wil nie graag my teologie by hom leer nie, maar ek moet sê dat hy op hierdie punt reg is.  In die hemel en op die nuwe aarde, sal God die trane van sy kinders se oë afvee (v.4, 7:17, Jes.25:8, kontr. Op.5:4).  Hy sal ook die dinge wat hierdie trane veroorsaak het, wegvat:  dood, droefheid, pyn, ens. (v.4).

 

Deur sy kruisdood en opstanding het Jesus die dood oorwin, sodat die dood vir God se kinders skadeloos is (Jh.11:25-26, Fil.1:21, 23).  En tog sal die vervloeking van Gn.2:17, 3:19 eers finaal verdwyn wanneer Jesus ons liggame uit die dood uit opwek (v.4, 20:14, Jes.25:8, 1 Kor.15:26, 55).

 

Alhoewel ons nie op begrafnisse treur soos ongelowiges wat geen hoop het nie (1 Ts.4:13), treur ons nogsteeds.  Maar wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, sal ons glad nie treur nie (v.4).  Ons sal ook geen emosionele of fisiese pyn ervaar nie (v.4, kontr. Gn.3:16-19).

 

Jesus het by sy eerste koms en deur wedergeboorte gewys dat Hy die ou dinge kan omkeer om nuut te word (Jh.2-3, 6, 9, 11, 20; 2 Kor.5:17).  By die wederkoms sal Hy dit finaal doen wanneer Hy vir ons onsterflike liggame gee en alles nuut maak (v.1, 4-5, 1 Kor.15).  As dit vir jou onmoontlik klink, kan jy weet dat dit so seker en betroubaar is soos die Bybel self (v.5).

 

Wanneer God dinge op hierdie manier nuut maak, is sy verlossingswerk voltooi (v.6).  Hy is die Alfa en die Omega[1], die Begin en die Einde (v.6, 1:8, 22:13).  Die skepping het in Gn.1 by Hom begin, en in Op.21 het Hy dit nuut gemaak; ons verlossing het voor die skepping in sy gedagtes begin, en sal op die nuwe aarde in Hom vervul word (Rm.8:29-30, Ef.1:3-14, Fil.1:6).

 

Om die lewende water van hierdie verlossing te geniet, hoef jy nie geld vir die kerk te gee of godsdienstige rituele te beoefen nie.  Dit is heetemal gratis en verniet.  Ontvang dit met die leë hande van geloof (v.6, 22:17, Jes.55:1, Jh.4:14, 6:35, 7:37-39).  As jy in die hemel en daarna op die nuwe aarde is, sal jy vir ewig in perfekte gemeenskap met Jesus lewe, en só uit die fontein van die lewe drink (v.6).

 

Hierdie geskenk is vir dié wat tot die einde toe volhard, en só die oorwinning behaal (v.6-7).  Húlle sal nou en vir ewig erfgename en kinders van God wees (v.7, 3, Rm.8:15-17, 2 Kor.6:18).

 

Deur hulle geloof in die Oorwinnaar (Jh.19:30, 2 Tm.1:10, Heb.2:14-15), sal hulle die volgende dinge oorwin:

 

  • Die wêreld (1 Jh.5:4-5).
  • Vervolging (2:10-11, Rm.8:37, 35).
  • Vals lering (2:17, 15, 1 Jh.4:4).
  • Die duiwel (12:11, 15:2).
  • Afvalligheid (2:7, 4).
  • Sonde (v.7-8, 3:4-5).
  • Geestelike louheid (3:21, 15-16).
  • Die dood (1 Kor.15:57, 54-55).
  • Die hel (v.7-8).

 

Daar sal mense wees wat nié oorwin het nie, maar deur die sonde oorwin is (v.8, Gal.5:19-21, 1 Kor.6:9-10).  Hulle lewens het o.a. só gelyk:

 

[1] Vreesagtiges of bangbroeke; mense wat te skaam was om vir Jesus te volg; ‘people pleasers’ wat sonde gedoen het, omdat hulle bang was mense hou nie van hulle nie.

 

[2] Trouelose of ongelowige mense.  Hulle het nie in Jesus geglo nie, en was ook nie lojaal aan die Here, sy Woord en sy liggaam nie.

 

[3] Gruwelike mense wat gruwelike dinge gedoen het.  Die dinge wat hulle gedoen het is so gruwelik, dat jy dit nie in ordentlike geselskap kan noem nie.

 

[4] Moordenaars.  Hulle het ander se lewens geneem, ongebore babas vermoor, en gedurig daaraan gedink om hulle eie lewens te neem.  As hulle dit nie gedoen het nie, het bitterheid en onvergewensgesindheid hulle gedagtes gevul.

 

[5] Hoereerders.  Die Griekse woord [pornos] praat van mense wat seksueel losbandig was: seks voor die huwelik, egbreuk, homoseksualiteit, bestialiteit, pornografie, kindermolestering, prostitusie, wellus, ens. (Mt.5:27-30, 1 Kor.6:9-10, Heb.13:4).

 

[6] Towenaars van enige soort:  dié wat hulle sterretekens in die Huisgenoot gevolg het, en op Jakaranda FM ingebel het om met die dooies te praat, asook dié wat in Satanisme betrokke was (Dt.18:9-14, Hd.19:19, Gal.5:20).

 

[7] Afgodsdienaars.  Sommige het voor beelde van hout, klip en metaal gebuig, terwyl ander ‘n obsessie gehad het hulle liggame, geld, plesier, kos, drank, ens. (Kol.3:5).

 

[8] Leuenaars.  Hierdie is mense wat die waarheid verdraai het, hulle beloftes gebreek het, oordryf het, oneerlik, onbetroubaar en skelm was.  Hulle het ander bedrieg en dubbele lewens gelei.

 

Almal wat soos die bg. mense in hulle sonde wil lewe, sal vir ewig in die poel van swawel en vuur wees – dit is die tweede dood (v.8, 14:10-11, 20:10, 14-15).

 

Die eerste agt verse van Op.21 is gegee om ons aan te spoor en te waarsku.  ‘Bly weg van die hel af, en sorg dat jy eendag op die nuwe aarde sal lewe,’ is wat dit sê.  Natuurlik moet jy nie net eendag in die nuwe skepping deel nie, maar in hierdie lewe al.

 

Het jy al iets hiervan ervaar?  Ek vra nie of jy die sondaarsgebed opgesê het, op ‘n uitnodiging gereageer het, of jou hart vir die Here gegee het nie.  My vraag is of jy ‘n nuwe skepping is?  Is jy ‘n nuwe mens?  Het die Here jou lewe van binne af getransformeer?  Of is jy nog net dieselfde as in die verlede, sodat die dinge wat in v.8 gelys word deel van jou lewe is?

 

Hoekom kom jy nie met ‘n berouvolle hart van geloof na die Here toe nie?  Bely jou sonde, vra vir die Here om jou te vergewe, en drink deur die Woord en gebed uit die fontein van lewende water (v.6).

 

As jy reeds tot bekering gekom het, het ek twee dinge om vir jou te sê.  Eerstens wil ek sê dat jy soos ‘n burger van die hemel moet lewe.  Moenie só lewe dat ongelowiges niks met die Here te doen wil hê nie.  Dit geld vir jou huwelik, ouerskap, taalgebruik, hoe jy jou werk en skoolwerk doen, jou verhouding met dié wat oor jou aangestel is, jou gesindheid, jou maniere op die pad, en meer.

 

Tweedens is dit belangrik om nie te dink dat jy alreeds op die nuwe aarde is, sodat jy verwag dat jou geliefdes altyd gesond moet wees, en nie sal doodgaan nie.  Moenie vir die charismate luister wat dink dat hulle deur hulle woorde gesondheid, lewe en rykdom kan ‘spreek’ nie.  Geen mens se woorde kan die nuwe hemel en aarde skep nie; Jesus alleen kan.

 

Wag daarom vir Hom soos wat ‘n hond vir sy meester wag.  Terwyl jy wag moet jy nie passief wees soos ‘n hond wat in sy hok lê en slaap nie.  Wees aktief en gereed soos ‘n hond wat langs die heining staan en blaf.  Dien die Here, volhard, leef in gemeenskap met Hom, en deel die evangelie met ander.  Op dié manier kan jy solank ‘n voorsmakie van die nuwe hemel en aarde geniet.

 

[1] Die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet.

Die oordeelsdag: wat om te verwag

Judge's hammer and book

‘n Vrou het eenkeer haar predikant gaan sien.  ‘Ek is bang vir die oordeelsdag,’ het sy gesê.  Hy het die gepaste verse vir haar verduidelik, en vir haar gesê om nie bang te wees nie.

 

‘Maar so-en-so het by ‘n konferensie gesê dat…’  ‘Ek gee nie om wat so-en-so gesê het nie – wat sê die Bybel?’ het hy vir haar gesê.  Op.20:11-15 sal ons help om te sien wat die Bybel oor die oordeelsdag te sê het.

 

Die Regter (v.11)

Greg word daarvan beskuldig dat hy ‘n ernstige misdaad gepleeg het.  Omdat die regter nie alles weet nie, duur die hofsaak vir weke.  Die regter dink dat Greg gehang moet word, maar kan nie die grondwet verander nie.  God is nié so nie.  Hy weet alles en is almagtig, en is daarom die perfekte Een om die wêreld te oordeel.

 

Johannes het ‘n groot wit troon gesien, en Iemand wat daarop sit (v.11).  Die troon wys vir ons dat Hy ‘n Koning en ‘n Regter is; die groot troon wys dat Hy bo alles en almal is; die wit troon wys dat Hy rein en heilig is.  Die feit dat Hy daarop gesit het, wys dat Hy in beheer is.  Hy verwys na Jesus wat die mag het om te oordeel (Mt.25:31, Jh.5:22, 27, Hd.10:42, 17:31, Rm.2:16).

 

Die eerste hemel en aarde het voor die Here weggevlug om plek te maak vir die nuwe hemel en aarde (v.11, 21:1, 2 Pt.3:10-13).  Volgens Johannes het dit by die finale oordeel gebeur, en volgens Petrus by die wederkoms.  Die finale oordeel sal dus by die wederkoms plaasvind, en nie ‘n duisend jaar later soos premils sê nie (vgl. Mt.25:31-46, 2 Ts.1:5-10, 2 Tm.4:1).

 

Wanneer dit sal plaasvind is egter nie die belangrikste nie, maar dat dit oppad is.  Sorg dat jy daarvoor gereed is.  Mense wil dit vermy en hoop dat dit sal weggaan as hulle dit ontken of ignoreer.  Maar dit sal nie.

 

Elke man, vrou, seun en dogter sal voor die Seun van God moet staan.  As jy ongered is, sal Hy die Regter wees wat jou oordeel; as jy gered is, sal Hy die Advokaat wees wat jou verdedig (1 Jh.2:1).  Maak seker dat Hy jou Verlosser en Advokaat is, en nie jou Regter nie.

 

Ek sal later presies vir jou sê hoe om dit te doen.  Vir nou moet jy jouself voorneem om nie meer jou bekering uit te stel nie, maar om vandag jou lewe met die Here reg te maak.  Jy kan dit nie bekostig om met die oordeelsdag te speel nie.

 

Die dooies (v.12a, 13a)

Klink die volgende storie vir jou vergesog:  in 1983 het ‘n 61-jarige boer genaamd Cliff Young, ‘n 875 km ultra-maraton in Australië teen die wêreld se top atlete gewen?  Hy het met 9 ure gewen en die rekord gebreek.  Die ander atlete het vir 18 ure gehardloop en vir 6 geslaap.  Hy het nie geslaap nie, maar vir vyf en ‘n half dae aaneen gehardloop.

 

Dalk klink dit soos ‘n wolhaarstorie, maar dit is nie – dit het regtig gebeur.  Net so is die opstanding van die dooies nie uit iemand se duim gesuig nie, maar die waarheid.  “Why is it thought incredible by any of you that God raises the dead?” (Hd.26:8, ESV).

 

Johannes het die dooies voor die troon gesien staan:  klein en groot (v.12a).  Niemand is voorgetrek omdat hy die president was, of omdat sy in die laerskool was toe sy dood is nie – al die dooies het voor God se troon verskyn (v.12-13 Rm.2:11).  Die mense wat nog lewe wanneer Jesus weer kom, sal ook voor die troon verskyn (2 Tm.4:1).

 

Wanneer Johannes in v.13 sê dat die dooies uit die doderyk en uit die see uit opgekom het, wil hy beklemtoon dat almal opgestaan en voor die troon verskyn het (v.12-13).  Die implikasie is dat daar een opstanding en oordeel is, en nie twee of meer soos wat die premils sê nie.[1]  Let gerus op die volgende verse:  11:18, Dn.12:2, Mt.12:41-42, 25:31-46, Jh.5:28-29, Hd.24:15, Rm.2:1-16.

 

Lesse wat ons uit v.12a, 13a leer is die volgende:

 

[1] Die idee dat jou siel of gees belangriker is as jou liggaam, kom van Griekse filosowe af, en nie uit die Bybel nie.  God red nie net ons siele nie, maar ook ons liggame.  Wanneer jy dus sterf en hemel toe gaan, is jou verlossing nie voltooi nie; jou liggaam moet nog opgewek en verheerlik word (Rm.8:23, 30).  En as die Here ook jou liggaam verlos het, moet jy Hom daarmee dien en eer (Rm.6:12-13, 12:1, 1 Kor.6:19-20).

 

[2] Jou nuwe liggaam sal vir ewig jonk, sterk, gesond, onsterflik, en onder die leiding van die Heilige Gees wees (1 Kor.15:42-44).  Laat hierdie vooruitsig jou in jou siekte en pyn vertroos (Job 19:25-27).

 

[3] As jy ongered is sal jou liggaam afskuwelik en afgryslik wees, al het jy ook ‘n skoonheidskompetisie op die aarde gewen (Jes.66:24, Dn.12:2).  Sonde en die gevolge daarvan sal vir ewig in jou liggaam wees:  kanker, gout, asma, migraine, tandpyn, depressie, angs, ‘n skuldige gewete en baie ander probleme.  Moet asb. nie na hierdie verskriklike plek toe gaan nie.

 

Die boeke (v.12b, 13b)

Michelle is nie ‘n vreeslike kenner van bome nie.  Hoe sal sy dan die verskil tussen ‘n appel-  en ‘n perskeboom ken?  Sy sal na die vrugte kyk.  Net so sal die goeie of slegte vrugte van iemand se lewe vir jou sê of hy gered is of nie (Mt.3:8, Jk.2:14-26).  Al word niemand deur sy dade gered nie (Ef.2:8-9), spreek dit boekdele oor wat in sy hart aangaan (Mt.15:19).

 

Toe die dooies voor die troon gestaan het, is die boek van die lewe oopgemaak; daar is ook ander boeke oopgemaak (v.12, Dn.7:10).  Hulle is geoordeel volgens hulle woorde, gedagtes, dade, motiewe, begeertes, karakter en lewens wat daarin opgeteken is (v.12-13, 22:12, Pd.12:14, Rm.2:16, Mt.7:21-23, 12:37, 16:27, Rm.2:6-8, 2 Kor.5:10).

 

Hoe beïnvloed dit jou?  As jy in sonde lewe, sal die finale oordeel vir jou ‘n hofsaak wees.  Alle ongelowiges sal vir ewig in die hel wees, maar party sal swaarder gestraf word as ander (v.12-13, 22:12, Mt.10:15, 11:20-24, Mk.12:40, Lk.12:47-48, Jh.19:11b).

 

As jy jou sonde gelos het om vir Jesus te volg, sal die oordeelsdag vir jou ‘n prysuitdeling wees.  Saam met elke ander gelowige sal jy vir ewig in die hemel wees, maar sommige sal ‘n groter beloning ontvang as ander (v.12-13, 11:18, 22:12, Mt.25:23, 28, Lk.19:17, 19, 1 Kor.4:5, 2 Kor.5:10, 2 Tm.4:8, 2 Jh.8).  Hoe jy die Here in sy kerk en Koninkryk gedien het, sal dit bepaal (1 Kor.3:12-15, 1 Tm.6:17-19).

 

As jy die Here liefhet en aan Hom behoort, hoef jy nie bang te wees vir die oordeelsdag nie (1 Jh.4:16-18).  Jy kan met blydskap daarna uitsien soos na ‘n gradeplegtigheid (Mt.25:34, Rm.2:6-7, 10, Jud.24).  Jou sonde sal nie voor die wêreld genoem word nie.  Jesus het dit reeds aan die kruis afgeskryf; toe jy in Hom geglo het, het Hy sý volmaakte rekord vir jou gegee (Ps.103:12, Mg.7:19, Jes.43:25, 44:22, Jh.5:24, Rm.8:1, 2 Kor.5:21, Kol.2:14, Heb.10:17).

 

As jy nié die Here dien en volg nie, moet jy baie bang wees.  Wat jy in die geheim gedoen het, sal van die dakke af verkondig word (Lk.12:2-3).  Ons weet nie hoe lank die oordeel vir jou gaan vat nie.  Dalk gaan die Here oomblik vir oomblik deur jou lewe.  Met ‘n ewigheid wat voorlê, is daar niks wat Hom jaag nie.

 

Dalk wonder jy of mense wat as babas gesterf het geoordeel gaan word?  Omdat ons volgens ons dade geoordeel word (v.12-13), dink ek nie dat die Here hulle gaan oordeel nie.  Uit die voorbeeld van Dawid se kind wat gesterf het en hemel toe is (2 Sm.12:23), lyk dit of hulle deur die Here se genade en op grond van Jesus se kruisdood gered sal word.

 

Die hel (v.14-15)

‘n Man het eendag vir sy vriend gevra:  ‘Wanneer gaan jy oor jou pa se dood kom?’  ‘By die opstanding en die finale oordeel,’ het hy geantwoord.  Volgens Johannes sal die dood eers dan vernietig word (v.14).  Volgens Paulus sal God dit by die wederkoms en die opstanding van die heiliges doen (1 Kor.15:26, 52-55).  Die punt is weereens dat die wederkoms, die opstanding en die finale oordeel op dieselfde tyd sal plaasvind.

 

Omdat Jesus deur sy kruisdood en opstanding die sleutels van die dood ontvang het, het Hy die mag om dit in die poel van vuur te vernietig (v.14, 1:18, Heb.2:14-15).  Die eerste dood is deur die tweede dood van die hel ingesluk, soos wat die Atlantiese Oseaan die Amasone rivier insluk.[2]

 

‘Die tweede dood’ impliseer dat die duiwel, sy engele en ongelowiges in die hel sal doodgaan, maar nooit finaal sterf nie (v.14, 10, 21:8, Mt.25:41, 46).  ‘Always dying, but never dead,’ is wat Thomas Watson gesê het.[3]

 

Almal wie se name nie voor die skepping in die boek van die lewe geskryf is nie, sal in die poel van vuur gegooi word (v.15, 12, 3:4-5, 13:8, 17:8, 21:27, Lk.10:20, Fil.4:3).  En as jy eers in die hel is, kom jy nie weer daar uit nie (v.15, 10, 21:8, 14:10-11, Mt.13:42-50, Mk.9:43-48).[4]

 

Moet daarom nie rus totdat jy uitgevind het of jou naam in die boek van die lewe is nie.  Die manier om hiervan seker te maak, is om jou te bekeer en in Jesus te glo (Hd.13:48, 2 Pt.1:5-11).

 

As jy gereeld oor die oordeelsdag dink, sal dit jou help om die Here te vrees en deur geloof in Hom te skuil (Fil.3:9, 1 Jh.2:28).  Wees egter versigtig dat jy nie soos Felix bang is, sonder dat jy jou bekeer nie (Hd.24:25).

 

Gereelde gedagtes oor die oordeelsdag kan jou ook op die volgende maniere help:

 

  • Om jou gewete skoon te kry (Hd.24:15-16, 1 Jh.3:21).
  • Om heilig te lewe (2 Pt.3:11, 14, 1 Jh.3:2-3).
  • Om jou beste vir die Here te doen en nie op te gee nie (1 Kor.3:12-15, 15:58, 50-57).
  • Om mense te vergewe en te weet dat die Here hulle sal oordeel (Rm.12:19, 1 Pt.2:23).
  • Om vrede te maak in jou huwelik en gesin, asook met jou familie, ander gelowiges en alle mense (2 Pt.3:14).
  • Om gerus te wees in ‘n wêreld vol van onreg, omdat die Here sal sorg dat geregtigheid geskied (Kol.3:25).
  • Om met dringendheid die evangelie te deel (2 Kor.5:10-11).
  • Om nie ‘n ‘people pleaser’ te wees nie, maar om die Here te vrees en te behaag.

 

Jare gelede het wyle dr. Martin Holdt ‘n spreker aangevat.  ‘Jy verstaan die oordeelsdag verkeerd, en is besig om die Here se kinders bang te maak,’ het hy gesê.  Die man het Martin se kritiek ter harte geneem, en besef dat hy verkeerd was.

 

As jy ‘n gelowige is en tot vandag toe bang was vir die oordeelsdag, kan jy jou vrese begrawe en uitsien om die Here van aangesig tot aangesig te ontmoet.

 

[1] Sien my preek, Die millennium en daarna, vir ‘n verduideliking van die eerste opstanding in Op.20:4-6.

[2] Marcellus Kik, An Eschatology of Victory, p.265

[3] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.62

[4] Indien jy nog vrae oor die hel het, kan jy my preek oor Op.14 lees.  Die titel is:  Maak seker van jou bestemming.

Die millennium en daarna

Burning earth

Mense het ‘n natuurlike nuuskierigheid oor die toekoms.  Dit is hoekom daar so iets soos toekomsvoorspellers is.  Hulle kan egter nie regtig die toekoms voorspel nie, omdat net die ware God dit kan doen (Jes.41:22-23).  Hy het in die Bybel deur die apostels en die profete vir ons gesê wat in die nabye en in die verre toekoms gaan gebeur.  Op.20:4-10 is een van vele tekste wat oor hierdie dinge praat.

 

Die millennium (v.4-6)

John Owen was ‘n prediker en teoloog wat in die 1600’s gelewe het.  Hy is daarvoor bekend dat hy moeilik geskryf het.  Dié wat dit geniet om hom te lees sal egter vir jou sê jy kan hom verstaan as jy hom noukeurig en stadig lees.  So is dit ook met Op.20:  dit is moeilik, maar as jy dit frase vir frase neem kan jy dit verstaan.  Selfs as jy nie elke detail verstaan nie, is dit moontlik om die breë trekke te verstaan.

 

Johannes het trone gesien:  dié wat gesag ontvang het om te oordeel het daarop gesit (v.4).  Hy het ook die siele gesien van dié wat vir die getuienis van Jesus en vir die Woord van God onthoof is (v.4).  Hulle het nie die dier of sy beeld aanbid nie; hulle het ook nie sy merk op hulle regterhande of voorkoppe ontvang nie; hulle het die Here gevolg en nie soos die wêreld gelewe nie (v.4).[1]

 

Wat beteken hierdie vers?  Dié wat op die trone gesit het, mag dalk die apostels wees wat die hele kerk verteenwoordig (Lk.22:30).  Alhoewel die martelare se siele aandui dat hulle in die hemel was (v.4, Heb.12:23), was dié wat op die trone gesit het in die hemel en op die aarde.  In die toekoms sal ons op trone sit en saam met Jesus regeer (3:21, 5:10, 22:5).  En tog is daar ‘n sekere sin waarin ons reeds saam met Hom in hemelse plekke sit (Ef.2:6, Kol.3:1, 3).

 

Die martelare se siele het lewend geword en vir ‘n duisend jaar saam met Jesus regeer (v.4).[2]  Dit is die eerste opstanding (v.5).  Die eerste opstanding verwys na Jesus se opstanding (2:8, 1 Kor.15:20, 23, Kol.1:18), en na dié wat deur wedergebore daarin deel (v.6, Kol.2:12, Ef.2:5-6).

 

Die tweede dood of die hel het geen mag oor hulle nie (v.6, 14, 21:8).  Hulle is wedergebore en sal daarom nie hel toe gaan nie (2:11).  Tydens die duisend jaar sal hulle as priesters en konings van God en die Messias regeer (v.6, 1:6, 5:10, 1 Pt.2:9).

 

Die res van die dooies in v.5 het nie deur wedergeboorte in Jesus se opstanding (die eerste opstanding) gedeel nie, maar sou net aan die einde van die duisend jaar in die tweede opstanding van die liggaam gedeel het (v.5).

 

Premils maak beswaar:  ‘Hoe kan jy sê dat die eerste opstanding geestelik is, terwyl die tweede een liggaamlik is – is jy nie besig om in die teks in te lees wat daar nie staan nie?’  Nee.  Die konteks en die res van die Skrif vereis dat ons die teks so moet interpreteer.  Buitendien is die eerste opstanding nie net geestelik nie maar liggaamlik, omdat dit na Jesus s’n verwys.

 

Omdat ons deur wedergeboorte daarin deel, kan ons sê dat die eerste opstanding liggaamlik en geestelik is, terwyl die tweede een net liggaamlik is (Rm.8:11).  Die eerste dood is liggaamlik, terwyl die tweede een liggaamlik en geestelik is in die hel (Mt.10:28).

 

As Johannes dan die twee dode verskillend interpreteer, weet ek nie hoekom premils dink dit is vergesog wanneer post- en amils die twee opstandings verskillend interpreteer nie.  Johannes self het dit so geïnterpreteer:  Jh.5:24-25 praat van ‘n geestelike opstanding, terwyl Jh.5:28-29 van die opstanding van die liggaam praat.

 

In die lg. teks wys Johannes ook dat daar net een opstanding van liggaam is, en nie twee of meer soos wat premils sê nie.  Ek sal in die volgende preek meer hieroor sê.

 

As jy vir mense van Jesus vertel en die Woord van God met hulle deel, sal hulle jou haat (v.4, 6:9).  Een van ons lidmate is hierdie week deur haar baas ingeroep.  ‘Jy mag nie meer die evangelie by die werk deel nie; as jy weer oor Jesus praat gaan ons jou afdank,’ het hy gesê.  Die wêreld sal jou haat net omdat jy aan Jesus behoort (Jh.15:18-25).

 

Maar moenie dat dit jou afsit nie.  Onthou dat jy saam met Jesus regeer, en dat die wêreld jou erfdeel is (v.4, 6, Mt.5:5, 1 Kor.3:21-23).  God het jou geheilig of afgesonder om in hierdie seën te deel (v.6, 14:13, Ef.1:3).  Jou taak is om seker te maak dat jy deur wedergeboorte in Jesus se opstanding deel (v.4-6).

 

Hoe doen jy dit?  Net soos wat ‘n kind homself nie verwek en in die wêreld inbring nie, kan geen mens homself wederbaar nie.  Geestelike geboorte kom van God af; dit is Hý wat ons in die eerste opstanding laat deel (Jh.1:13, Ef.2:4-6, Jk.1:18, 1 Pt.1:3).

 

Vra dan vir Hom om Christus se lewe in jou hart te plant.  Glo dat Hy dit sal doen, omdat Jesus in sy kruisdood die straf gevat het wat ons moes kry.  Glo ook dat Hy dit kan doen, omdat Jesus uit die dood uit opgestaan het en vir ewig lewe.  Los die sonde waarvoor jy so lief is, en vra dat Hy jou sal vergewe.  As jy dit nié doen nie, sal jy in die tweede dood van die hel deel (v.6).  En dit sal die fout van jou lewe wees.

 

Die wederkoms (v.7-10)

Toe ek in Nelspruit gebly het, het ek elke tweede Sondag ‘n man in die tronk gaan besoek.  Hy was baie bly toe hy uitgekom het.  Ek het met hom gepraat toe hy weer by sy ouers gebly het.  Maar van wat ek verstaan het hy na sy ou weë toe teruggekeer, en is hy tronk toe.  Blykbaar het die tronk nie sy hart verander nie.

 

Net so het die duiwel se tronk in v.1-3 nie sy hart verander nie (nie dat dit die bedoeling was nie).  Toe hy vrygelaat is, het hy sy bose streke voortgesit (v.7-8, 3).  As ‘n laaste poging het hy probeer om die nasies te mislei (v.8).  Hy het die ongelowiges onder hulle van oral af gebring om God se kinders te vervolg (v.8).

 

Hulle was soos die sand van die see.  Volgens die Bybelse gebruik van die term beteken dit dat daar ‘n paar honderd duisend of dalk ‘n paar miljoen van hulle was (Dt.1:10, Jos.11:4, Rgt.6:5, 7:12, 1 Sm.13:5, 1 Kon.4:20, Heb.11:12).  Die teks dui dus nie noodwendig aan dat hulle meer was as die gelowiges nie.

 

Volgens v.8 is hulle Gog en Magog genoem.  In Esg.38-39 is Gog en Magog ‘n ander naam vir Antiochus Epifanes wat teen Israel baklei het, maar deur God se ingrype oorwin is.[3]  In Op.20:8 is Gog en Magog ‘n simboliese naam vir die nasies wat onder die duiwel se invloed teen God se kinders baklei het.  Soos met die ander name in Op.2, 11, 18 (Isebel, Sodom, Babilon), verwys Gog en Magog in v.8 nie na die Ou Testamentiese figure nie, maar is dit ‘n simboliese naam.

 

Soos in Esg.38-39 het God die duiwel en sy handlangers teen die kerk versamel, omdat Hy hulle op een slag wou uitwis.  Hulle het oor die breedte van die land of aarde gekom om die kamp en die geliefde stad van die heiliges te omsingel (v.9, Hab.1:6).  Die kamp en die geliefde stad verwys na die hemelse Jerusalem of die kerk (21:2, 2 Kor.11:2, Gal.4:26, Heb.12:22, 13:12-14).

 

Volgens die belofte in Mt.16:18 kon Satan nie teen die kerk gestaan het nie.  Jesus het na die aarde toe teruggekeer om hom en sy goddelose magte met vuur te vernietig (v.9, 2 Ts.1:6-8, 2 Pt.3:10, 12, vgl. Gn.19:24, 2 Kon.1, Esg.38:22, Lk.9:54).  Hy is in die poel van vuur en swawel gegooi waar die dier en die vals profeet alreeds was (v.10, 19:20).  Daar het God hom vir sy boosheid gepynig – vir ewig (v.10, 14:10-11).

 

Die duiwel kan nie met Jesus vergelyk word nie. Sy mag is geleen; hy kan nie doen wat hy wil nie.  As hy en sy demone die Here se kinders wil versoek of ander groot bewegings wil maak, moet hulle toestemming kry (Job 1:6-12, 2:1-6, Lk.8:32, 1 Jh.5:18).  Dit is nie ‘n gelyke speelveld tussen Christus en die duiwel nie (v.9).

 

Wat ‘n charismaat eenkeer vir my gesê het, is loutere onsin:  ‘Omdat daar so iets soos geestelike wette is, moet God by die reëls hou.  Gevolglik kan die duiwel partykeer vir Hom sê om dinge te doen wat Hy andersins nie sou of wou doen nie.’  Die implikasie is dat die duiwel vir God kan ‘black mail’.  Hy kan Hom m.a.w manupileer, in ‘n hoek dryf, en in skaak sit.

 

Bog, snert, vuilgoed en twak.  Die duiwel sidder voor God en praat nie terug wanneer Hy vir hom sê wat om te doen nie (Mt.4:10-11, Mk.1:23-26, Jk.2:19).  Sorg daarom dat die duiwel en nie Jesus nie, jou vyand is.  Dank die Here dat jy aan die wen kant is, en dat die Heilige Gees wat in jou woon sterker is as die duiwel (Rm.8:31, 1 Jh.4:4).

 

Ons moenie die duiwel uittart nie (2 Pt.2:10-11, Jud.8-9), maar ons moet ook nie in vrees lewe asof hy die mag het om te doen wat hy wil nie.  Jesus sal ons beskerm en die duiwel se aanvalle gebruik om ons te bevoordeel (Rm.8:28).  En as Hy hom klaar soos ‘n ou stoflap gebruik het om ons blink te vryf, sal Hy hom vir ewig in die hel gooi (v.10).

 

Moet asb. nie die idee kry dat die hel ‘n plek is waar die duiwel met ‘n drietand vurk rondloop om ongelowiges te pynig nie.  Dit is nie naastenby die geval nie.  In 2004 het Rick Holland by ‘n konferensie gesê:  ‘Satan is not the captain of hell, but the chief captive of hell’ (vgl. Mt.25:41).  God is soewerein oor Satan.

 

As jy ‘n goeie fliek kyk en jou kind vir jou sê hoe dit gaan eindig, is dit ‘n anti-klimaks en kan jy net sowel die storie afsit.  Maar met die millennium en dit wat daarna gaan gebeur is dit nie so nie.  Die feit dat God reeds die einde bepaal het (Jes.46:10, Ef.1:11) en vir ons gesê het hoe dit gaan afspeel, stel ons gerus.

 

[1] Sien my preek, Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666) vir ‘n verduideliking hiervan.

[2] In die vorige preek het ek gewys dat die duisend jaar simbolies is van die tydperk tussen Jesus se eerste koms en sy tweede een.  Die preek se titel is, Die goue era van postmillennialisme as jy dit dalk wil opsoek.

[3] David Chilton, The Days of Vengeance, p.206 en William Hendriksen, More Than Conquerors, pp.232-234

Die goue era van postmillennialisme

Golden sunset

Ek het oor die afgelope paar weke teen Op.20:1-3 geboks.  Ek het ‘n paar outeurs en kollegas saam met my in die bokskryt gehad.  Die teks het my oog blou geslaan en my neus laat bloei.  Nie almal het met my of met mekaar saamgestem nie.  Hierdie is by verre die moeilikste teks wat ek nog ooit voorberei het, en dalk is dit nie die uitklop hou waarvoor jy gehoop het nie.

 

Maar van die opsies wat ek oorweeg het, het hierdie een die meeste sin gemaak.  Ek glo wat ek preek, maar wil nie maak asof ek alles verstaan nie.  Ek kom met groot versigtigheid, en al lyk die bome in my skildery nie fantasties nie, hoop ek ten minte dat die landskap vir jou duidelik sal wees.

 

Die Engel

Adolf Hitler het gehoop om ‘n Duitse Ryk te vestig wat vir ‘n duisend jaar sou duur.  In Engels ken ons dit as die ‘Third Reich’.  Die Ryk het maar vir twaalf jaar aangehou.  Hitler het nie sy doel bereik nie, omdat net Jesus Christus die duisendjarige vrederyk of die millennium tot stand kan bring.

 

Soos in 10:1, 18:1 en Eks.3:2, is Hý die Engel van wie ons in v.1 lees.  Hy het uit die hemel uit neergedaal; Hy het ‘n groot ketting en die sleutel tot die bodemlose put gehad (v.1).  Die sleutel bevestig sy identiteit, want in 1:18 het Jesus die sleutels van die dood en die doderyk; in 9:1 word dit vir ‘n kort tydjie aan die duiwel geleen.

 

Die feit dat die Engel vir Satan bind, wys óók dat Hy Jesus is.  In die res van die Nuwe Testament is dit Hý wat die duiwel bind.  Ek sal later vir jou die verse gee.

 

Die duiwel

Sit vyftig geharde misdadigers in ‘n tronksel:  moordenaars en verkragters wat wat mense op die gruwelikse maniere doodgemaak het.  Vermenigvuldig dit met ‘n honderd, en nogsteeds het jy nie die duiwel nie.

 

Hy is die afskuwelikste wese in die heelal, boser as enigiets of iemand wat jy al in jou lewe teëgekom het.  As Robert Mugabe, Hitler, Stalin en Saddam Hussein ‘n eetlepel vol mamba gif is, is die duiwel ‘n hele dam vol.

 

Die Engel het hom gegryp en vir ‘n duisend jaar lank vasgebind (v.2).  Soos in 12:9 het hy verskillende name:

 

[1] Die draak.  Hy is ‘n vyand wat die mag het om groot verwoesting te saai.  Hy kan egter nie teen die Here kompeteer nie (v.1-3, 7-10).

 

[2] Die ou slang.  Hy is slinks en het in Gn.3 ‘n slang se liggaam gebruik om vir Eva te versoek (2 Kor.11:3).

 

[3] Die duiwel.  Hierdie naam beteken ‘aanklaer’.  Voor Jesus se kruisdood het hy voor die troon gekom om God se kinders by Hom aan te kla (Job 1:6-12, 2:1-6, Sg.3:1-5).  Deur Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart is hy egter uitgeskop, en kan hy ons nie meer aankla nie (12:9-10, Rm.8:33-34).

 

[4] Satan.  Hierdie naam beteken teenstander, omdat hy die Here, sy werk en sy kinders teenstaan.  Hy is teen alles wat goed, heilig en reg is.

 

Die binding

Wat beteken dit dat die duiwel vir ‘n duisend jaar lank vasgebind is?  Dwarsdeur die kerk se geskiedenis het gelowiges hieroor verskil.  Dit is een van die moeilikste verse in die Bybel.  Hoe moet ons dit verstaan?

 

Volgens premils sal Satan by Jesus se tweede koms gebind word en vir ‘n duisend jaar lank onaktief wees.  Die volgende tekste wys egter dat Jesus hom deur die uitdrywing van demone uit die hemel uit verban het, en dat Hy hom aan die kruis en deur sy opstanding en hemelvaart gebind het.  Soos wat die evangelie verkondig word, word die nasies wat eens in sy mag was by hom weggevat.

 

Dit is asof die Here hom in drie stadiums gebind het.  In die begin het hy beweeg ruimte gehad, maar nou is hy heeltemal gebind.  Die drie toue se name is:

 

Tou #1: Die uitdrywing van demone (Lk.11:20-22, 10:17-18, Op.12:7-12).

Tou #2: Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart (3:15, Jes.53:12, Jh.12:31-32, Ef.4:8, Kol.2:14-15, Heb.2:14-15, 1 Jh.3:8, Op.20:1-2).

Tou #3: Evangelisasie (49:24-25, Mt.28:18-19 en Lk.4:5-7, Hd.26:18, Kol.1:13, 2 Tm.2:25-26, Op.20:3).

 

Satan is gebind, maar nie in die absolute sin van die engele wat in Noag se tyd gesondig het nie (v.2-3, hfst.9, 1 Pt.3:19-20, 2 Pt.2:4, Jud.6, kontr. Lk.8:31).  In sy gebonde toestand versoek hy en sy demone ons nogsteeds (2 Kor.4:4, 11:14, Ef.2:2, 6:12, 1 Pt.5:8, 1 Jh.5:19).

 

Hy kan egter nie soos in die Ou Testament keer dat die evangelie die nasies suksesvol bereik, en dat hulle tot bekering kom nie (v.3, Hd.13:4-12, 16:16-18, 19:11-20, kontr. Ps.147:19-20, Am.3:1-2, Hd.14:16, 17:30).  Hy is soos ‘n hond aan ‘n ketting.  Jy hoef hom dus nie te vrees nie, maar moet ook nie te naby kom nie, want hy kan nog byt.

 

Die millennium

Ons kan nie net self besluit wanneer ons ‘n vers simbolies moet verstaan en wanneer nie.  Die konteks van die boek en die res van die Bybel moet dit bepaal.  Hoe weet ons of die duisend jaar in Op.20 letterlik of simbolies verstaan moet word?

 

Die ketting waarmee die duiwel gebind word is waarskynlik simbolies, omdat hy ‘n gees is.  Verder is Openbaring ‘n baie simboliese boek.  Die duisend jaar in Op.20 is moontlik simbolies soos die vee op ‘n duisend heuwels in Ps.50:10, en 2 Pt.3:8 se duisend jaar wat vir die Here soos een dag is en andersom.  Ek glo dat die duisend jaar in Op.20 simbolies is van die tydperk tussen Jesus se eerste koms en sy tweede een.

 

Die loslating

Wat sê Sannie se ma as sy stout is?  ‘Nou is die duiwel los!’  Ons weet dat sy dit spreekwoordelik bedoel (gelukkig!).  Die waarheid is dat die duiwel tot aan die einde van die duisend jaar gebind sal wees, en dat hy dan vir ‘n kort tydjie losgelaat sal word (v.3, 7-8).  Ek sal in die volgende preek meer hieroor sê.

 

Die sisteem

Voor ek by die toepassing kom, wil ek hê dat jy postmillennialisme as ‘n sisteem moet verstaan.  Moet dit asb. nie afskiet, net omdat jy nie met elke detail saamstem nie.  Laat my asb. toe om in vyf paragrawe die sisteem vir jou te verduidelik.  Daarna kan jy self besluit of dit Bybels is of nie.  As jy besluit dat dit wél Bybels is, sal ek vir jou sê hoe om dit toe te pas.

 

Volgens postmillennialisme sal daar in die toekoms ‘n goue era van ongekende voorspoed en vrede wees.  Dit sal nie deur die politieke of sosiale ingrype van ‘n land se regering plaasvind nie, maar deur die kragtige werking van God in evangelisasie en herlewing.

 

Die Jode sal in massa tot bekering kom.  Hulle bekering sal ‘n wêreldwye herlewing ontketen (Rm.11:12, 15, 25-27, Esg.37:1-14).  Elke individu sal nie tot bekering kom nie, maar nasies in hulle geheel sal die Here dien (Gn.12:3, Ps. 22:28-29, 67:6, 8, 72:8-11, 17, 19, 86:9, Jes.2:2-3, 11:9b, 60:6-7, 66:18, 22-23, Mal.1:11, Mt.28:19).

 

Soos wat Jesus tot nou toe gedoen het, sal Hy gedurende die goue era vanuit die hemel oor sy vyande regeer (Ps.110:1, 1 Kor.15:25-26).  Hy sal daarvoor sorg dat geregtigheid op die aarde geskied, dat die armes gehelp word, dat daar vrede is, dat misdaad minimaal is, dat sy kinders vooruit gaan, en dat die aarde voorspoedig is (Ps.72:2-7, 12-16, Jes.65:21-23, Mg.4:4).

 

Daar sal nie oorlog wees nie (Jes.2:4, Sg.9:9). Al die diere sal plante eet en sal mekaar nie meer doodmaak nie; geen mens sal deur hulle beskadig word nie (Jes.11:6-9a, 65:25).  Dit sal wees soos voor die vloed.

 

En tog sal die wêreld nog nie volmaak wees nie; daar sal nog sonde en dood wees (Jes.65:20).  Gelowiges sal egter so oud word soos bome; so oud soos Adam se nageslag in Gn.5 (Jes.65:20, 22).  Trane sal nie algemeen wees nie; dit sal ‘n tyd van groot blydskap wees (Jes.65:18-19).

 

Ek weet dat daar besware teen hierdie lering is:

 

[1] ‘Hoe weet jy dat hierdie verse nie oor die hemel gaan nie?’  Dit kan nie oor die hemel gaan nie, omdat dit van sonde en dood praat.  ‘Ja, maar in Jes.65:17 sê die profeet dan dat hy die nuwe hemel en die nuwe aarde beskryf.’

 

Ek weet, maar hy sê ook drie verse later dat daar sonde en dood is, en daarom kan dit nie van die hemel praat nie.  Die nuwe skepping het by wedergeboorte al in ons harte begin (2 Kor.5:17).  Dit sal progressief groei totdat dit by die wederkoms vervul word (Jes.9:5-6, Dn.2:35, Mt.13:31-33, Op.21:1).

 

[2] ‘Wie sê dat die “postmil” verse wat jy hierbo aangehaal het nie dalk van ‘n millennium ná die wederkoms praat nie?’

 

Volgens 1 Kor.15:23-28, 54-55 sal Jesus die dood by sy wederkoms vernietig.  Volgens Op.20:14 sal Hy dit ná die millennium (v.1-7) by die finale oordeel vernietig.  Die wederkoms kan dus nie voor die millennium wees nie; dit moet daarná wees.

 

Volgens Mt.25:31-46 sal daar nie ‘n millennium na die wederkoms wees nie, maar ‘n finale oordeel van die nasies, en ‘n ewige bestaan met of sonder die Here.  Volgens Jh.6:39-40, 44 is dit die laaste dag wanneer Jesus weer kom en die dooies opwek.  Hoe kan die huidige aarde dan nog ná sy koms vir ‘n duisend jaar lank aanhou?

 

Een van die grootste probleme wat ek met hierdie siening het, is dat volmaakte gelowiges uit die hemel uit na ‘n sondige aarde toe moet terugkeer.

 

[3] ‘Hoe kan ‘n wêreld wat so boos is voor die wederkoms verander word?’  Die ywer van die Almagtige God sal daarvoor sorg (Jes.9:6).  Die feit dat dit vir ons regering ontmoontlik is, beteken nie dat dit vir die Here onmoontlik is nie (Sg.8:6, Lk.18:27).

 

‘Ja, maar dit lyk nie vir my of dinge besig is om te verander nie.’  Moenie soos Sara wees en lag omdat dit vir jou onmoontlik lyk nie.  Vertrou eerder soos Abraham, al is daar ook vir jou geen aanduiding dat die Here sy beloftes sal vervul nie.

 

[4] ‘Volgens Mt.7:13-14, 22:14, Lk.13:23-24 is daar min wat gered sal word, nie baie nie.’  In die laaste twee tekste bedoel Jesus dat die meeste Jode in sy tyd Hom verwerp het.  In dieselfde tekste sê Hy dat massas heidene van oral af na God se Koninkryk toe sal kom.  Ek glo dat Mt.7:13-14 ook van Jesus se tyd praat.  Op.7:9 en die tekste wat ek hierbo genoem dui aan dat ‘n ontelbare menigte tot bekering sal kom.

 

[5] ‘Op.6-19, Mt.24 en ander sulke tekste wys dat die wêreld slegter sal word, nie beter nie.’  Ek het vroeër in die reeks gewys dat hierdie gedeeltes in die eerste eeu vervul is.

 

[6] ‘Jesus het in Mt.13:24-30, 36-43 gesê dat die koring en die onkruid (gelowiges en ongelowiges) saam sal groei tot by die wederkoms.’  Ja, maar Hy het nie gesê dat daar meer onkruid sal wees as koring nie.  Eintlik het Hy aangedui dat die koring meer sal wees, omdat dit ‘n koringland is, en nie ‘n onkruidland nie.

 

Die toepassing

Laat hierdie waarhede jou gebedslewe verander.  Bid dat Jesus se Koninkryk deur die evangelie na die nasies toe sal versprei; bid dat sy wil op die aarde sal geskied (Mt.6:10).  Bid vir die redding van die Jode en vir herlewing.  Kry goeie boeke oor die onderwerp en lees dit.  Iain Murray se Puritan Hope is uitstekend, en Keith Mathison se boek oor Postmillennialisme is ook baie goed.

 

Dink ook daaraan dat die grootste predikers, teoloë, musikante en sendelinge in die kerk se geskiedenis optimisties was oor die eindtyd (nie almal van hulle was postmil nie):  Augustinus, Athanasius, Calvyn, John Owen, Jonathan Edwards, George Whitefield, David Brainerd, Isaac Watts, William Carey, Charles Spurgeon, David Livingstone en meer.

 

As postmillennialisme jou nie oortuig nie, wil ek ten minste vra of jy nie optimisties wil wees soos Spurgeon (‘n premil) en Calvyn (‘n amil) nie?  As jy nogsteeds nie oortuig is nie, respekteer ek jou besluit.  Ons kan in vrede lewe en hoef nie paaie te skei soos ‘n gemeente in Potch wat oor die eindtyd geskeur het nie.

‘n Bybelse benadering tot die millennium

Evening in eschatology

Wat op aarde is die millennium?  Dit het te doen met die eindtyd.  Maar voordat ons sê wat die Bybel hieroor leer, moet ons seker maak dat ons die kwessie op ‘n Bybelse manier benader.  Wat ek bedoel is dít.

 

  • Verledejaar het ek op ‘n vriend se aanbeveling ‘n debat oor die millennium op YouTube gekyk. ‘An Evening in Eschatology’ was die titel.  Dit was baie goed, maar twee van die mans het redelik vurig geraak.
  • ‘n Vriend het my eenkeer oor die vingers getik, omdat ek gesê het ek is nie seker wat ek oor die eindtyd glo nie, en dat dit my nie regtig pla nie. ‘God het dit in die Bybel gesit, en daarom moet ons probeer om dit te verstaan,’ het hy gesê.
  • John MacArthur het by ‘n konferensie sy eindtydsiening gepreek, en gesê dat ander verkeerd is. ‘n Baptiste teoloog het ‘n reaksie teen hom geskryf.  Voordat hy egter gesê het hoekom hy nie met MacArthur saamstem nie, het hy in die voorwoord gesê:  ‘John MacArthur is my friend.’[1]

 

Een van my goeie vriende – wat ‘n ander siening as ek het oor die millennium – het die boek vir my gegee en voor in geskryf:

 

Ivor,

 

May we always address our disagreements

with a “friendly response”.

Oh, for more of Christ!

 

Paul

 

Dit is wat ek bedoel wanneer ek sê dat ons die millennium Bybels moet benader.  Ons moenie vurig daaroor stry nie, maar ons moet ook nie sê dat dit onbelangrik is nie.  Ons moet eerder weet wat ons oor die saak glo, en ruimte laat vir dié wat nie met ons saamstem nie.

 

Die definisie

Vir baie mense het die woord millennium in die jaar 2000 populêr geraak.  Dit kom van ‘n Latynse woord af wat ‘duisend jaar’ beteken.  Mille beteken duisend (dalk onthou jy tekkies met hierdie naam), en annus beteken jaar.  Die naam kom van Op.20 se duisend jaar af.

 

In hierdie hoofstuk sien ons dat die duiwel vir ‘n duisend jaar gebind is, sodat hy nie meer die nasies kon mislei nie (v.1-3).  Die dooies wat lewend gemaak is het vir ‘n duisend jaar saam met Christus regeer (v.4-6).

 

Aan die einde van die duisend jaar is die duiwel vir ‘n kort rukkie losgelaat.  Hy het die nasies mislei om teen Jesus en die kerk te baklei, maar is oorwin (v.7-10).  Ná sy vernietiging in die hel, is die dooies opgewek en geoordeel (v.11-15).

 

Wat volg is ‘n opsomming van hoe gelowiges Op.20:1-6 deur die geskiedenis verstaan het.  In die volgende preek sal ek die teks noukeurig ontleed.

 

Die sienings

Meer as tien jaar gelede het ons tydens ‘n Bybelstudie deur die boek Openbaring gewerk.  Ons het o.a. die verskillende sienings van die millennium aangeraak.  Toe ons dit klaar bespreek het, het iemand gesê:  ‘Jy is ‘n amil, sy is ‘n premil, hy is ‘n postmil en ek is ‘n nege mil.’

 

Deur die kerk se geskiedenis het groot manne en vroue van God oor die saak verskil.  Daar is vier basiese sienings wanneer dit by Op.20:1-6 kom.[2]

 

Postmillennialisme

Postmillennialisme beteken dat Jesus ná (post-) die millennium sal terugkeer.  Die meeste postmils in ons tyd glo dat Satan gebind is toe Jesus aan die kruis gesterf het.  Hy sal gebind wees tot net voor die wederkoms, waarna hy vir ‘n kort tydjie losgelaat sal word en die nasies sal mislei om teen Jesus en die kerk te veg.

Postmil

Maar hy sal nie suksesvol wees nie; die Here sal hom vernietig.  Rakende die binding van Satan glo postmils dat hy nie absoluut gebind is nie, maar spesifiek sodat hy nie die verspreiding van die evangelie na die nasies toe kan keer nie.  Rakende die duisend jaar van die duiwel se gebondenheid, glo postmils dat dit ‘n simboliese getal van die tydperk tussen Jesus se eerste en sy tweede koms is.[3]

 

Die groot verdrukking en die Antichris (tekste soos Mt.24 en Op.6-19) is met die verwoesting van Jerusalem en die tempel in die eerste eeu vervul, en lê dus nie in die toekoms nie.[4]

 

Die evangelie het wel klein begin, maar sal deur die Heilige Gees se werk in evangelisasie en herlewings die eindes van die aarde bereik.  Die vrede begin in ons harte, maar soos wat die evangelie versprei en mense tot bekering kom, sal dit o.a. ‘n morele, sosiale, politieke en ekonomiese effek hê.  Omdat daar vrede met God is, sal mense ook in vrede met mekaar lewe.  Uiterlike vrede sal die direkte gevolg van mense se innerlike vrede met God wees.

 

Voor die wederkoms sal die Jode gered word, en sal die res van die nasies na die Here toe draai.  Elke individu sal nie tot bekering kom nie, maar die meerderheid van die mensdom sal die Here aanbid.

 

Op die regte tyd sal Jesus na die aarde toe terugkeer.  Hy sal gelowiges en ongelowiges uit die dood uit opwek.  Dié wat die evangelie verwerp het sal vir ewig in die hel gegooi word, terwyl dié wat hulle bekeer het om in Jesus te glo vir ewig saam met Hom op die nuwe aarde sal lewe.

 

Amillennialisme

Amillennialisme beteken dat daar nie (a-) ‘n millennium is nie.  Die naam is ‘n bietjie misleidend, omdat hulle wel in ‘n millennium glo, maar nie in ‘n letterlike een op aarde nie.

Amil

Oor die binding van Satan, die simboliese duisend jaar, die loslating van Satan voor die einde, die wederkoms, die opstanding, die finale oordeel, die hemel en die hel, glo amillennialiste dieselfde as die vorige siening.

 

Hulle glo egter nie soos postmils dat geregtigheid uiteindelik die oorhand sal hê nie, maar dat boosheid en geregtigheid soos ‘n trein se twee spore parallel sal loop tot by die wederkoms.

 

Volgens hulle hou die groot verdrukking deur die kerk se geskiedenis aan, en sal daar altyd antichriste wees.  Die verdrukking sal egter intens raak wanneer daar voor die wederkoms ‘n finale Antichris op die toneel verskyn.

 

Terwyl die groot verdrukking plaasvind, is daar ook ‘n simboliese duisend jaar van vrede in gelowiges se harte of in die hemel.  Die millennium is geestelik en nie polities van aard nie.

 

Historiese Premillennialisme

Premillennialisme beteken dat Jesus voor (pre-) die millennium weer sal kom.  ‘Histories’ dui aan dat Christene van die vroegste eeue af hierdie siening gehandhaaf het, en dat Dispensasionele premillennialisme ‘n nuuter verskynsel is (sien die laaste siening hieronder).

Historiese Premil

Historiese premillennialiste glo dat die wêreld drasties sal vererger voor die wederkoms.  Die Antichris sal op die toneel verskyn en die kerk vir sewe jaar lank verdruk en vervolg.

 

Aan die einde van die sewe jaar sal Jesus die Antichris verslaan en die gelowiges wat gesterf het opwek.  Saam met die gelowiges wat nog lewe sal hulle die Here in die lug ontmoet en dan na die aarde toe terugkeer.  Die wegraping en die wederkoms is dus een gebeurtenis.

 

By die wederkoms sal Jesus die duiwel bind.  Hy sal absoluut gebind word, sodat hy vir die bestek van die millennium glad nie aktief is nie.  Gedurende die duisend jaar (‘n letterlike of ‘n simboliese tydperk) sal Jesus op die aarde regeer en die gelowiges saam met Hom.  Daar sal nog sonde en dood in die wêreld wees, maar oor die algemeen sal dit ‘n tyd van geestelike, sosiale en politieke vrede wees.  Al die nasies sal die knie voor Koning Jesus buig, sommige uit dwang en ander gewilliglik.

 

Aan die einde van die duisend jaar sal Satan vir ‘n kort tydjie losgelaat word.  Hy sal die nasies mislei om teen Jesus op te staan, maar sal gou vernietig word.  Daarna sal Jesus die ongelowiges opwek en oordeel.  As Hy hulle klaar in die hel gewerp het, sal Hy die aarde nuut maak.  Die dood sal nie meer wees nie, en God se kinders sal vir ewig saam met Hom op die nuwe aarde woon.

 

Dispenasionele Premillennialisme

Ons het reeds onder die vorige punt gesien wat premillennialisme beteken.  ‘Dispensasionele’ word gebruik, omdat hierdie siening die Bybel in verskillende dispensasies opdeel.  In teenstelling met die vorige drie sienings, glo hulle dat die kerk en Israel verskillende groepe is.

Dispensasie Premil

Dispensasie premils glo in baie opsigte dieselfde as historiese premils.  Maar daar is ook noemenswaardige verskille.  Dispensasie premils glo dat daar ‘n onverwagse wegraping van die kerk sal wees.  Gelowiges wat gesterf het sal uit die dood uit opstaan en saam met dié wat nog lewe weggeraap word om die Here in die lug te ontmoet.  Hy sal hulle hemel toe vat om by Hom te wees, sodat hulle nie die groot verdrukking hoef deur te maak en die Antichris hulle vervolg nie.

 

Ná die wegraping sal die Jode na hulle land toe terugkeer en tot bekering kom.  Die Antichris sal hulle en mense uit ander nasies wat tot bekering gekom het, vir sewe jaar lank verdruk en vervolg (die groot verdrukking).  Aan die einde van die sewe jaar sal Jesus terugkeer om die Antichris te verslaan.  Hy sal die duiwel absoluut bind, sodat hy glad nie meer aktief is nie.

 

Vanuit die aardse Jerusalem in Israel, sal Hy letterlik vir ‘n duisend jaar op sy troon sit en oor die aarde regeer.  Soos met historiese premils, sal daar volgens dispensasie premils nog sonde en dood wees, maar oor die algemeen sal daar ‘n geestelike en politieke vrede op die aarde wees.  Die gelowiges sal saam met Jesus regeer.

 

Aan die einde van die duisend jaar sal Satan vir ‘n kort rukkie losgelaat word om die nasies teen Jesus aan te hits.  Hy sal vernietig word.  Jesus sal die ongelowiges uit die dood uit opwek, hulle oordeel en hulle in die hel gooi.  Hy sal die aarde nuut maak en vir ewig saam met ons wees.

 

Die toepassing

Justin Martyr was ‘n gelowige wat in die tweede na Christus (c.100-165 n.C.) gelewe het.  In sý tyd reeds het Christene oor die millennium verskil.  Volgens hom was daar ware gelowiges wat nie soos hy in ‘n duisendjarige vrederyk ná die wederkoms geglo het nie.[5]

 

Dalk dink jy:  ‘As groot Godsmanne nie eers oor Op.20 kon saamstem nie, hoe kan ek eers probéér om dit te verstaan?’  Hoor ek miskien iemand sê:  ‘Wat maak dit saak?  Terwyl ons oor die millennium stry, gaan ongelowiges hel toe.  Ons moet op evangelisasie fokus en nie op teologiese onbenullighede nie’?  ‘n Paar opmerkings is in orde.

 

[1] Die evangelie is inderdaad belangriker as die millennium.  Paulus het gesê:  “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het,” en dan gaan hy aan om die evangelie op te som (1 Kor.15:3-4).

 

Wanneer ons dus die Skrif preek, moet ons dit in die regte proporsie doen.  Die Bybel praat bv. op ‘n paar plekke van ouderlinge.  Om dit dan vir ‘n jaar of twee te bestudeer en te preek is nie net ongebalanseerd nie, maar ongesond.

 

So is dit ook met die millennium:  die Bybel praat een keer daarvan, en daarom mag ons nie toelaat dat dit ons gedagtes, navorsing en gesprekke so oorheers, dat dit die evangelie uitskuif nie.

 

Wat baat dit as jy jou siening oor die millennium wil uitsorteer, maar nie gered is nie?  Die duisend jaar van vrede beteken niks as jy nie vrede met God het nie.  As jy jou dae in sonde deurbring, sal jy saam met die duiwel vernietig word en in die hel beland (v.9-10, 15).  Jy sal baie gou agterkom dat Satan, sy demone en al die ongelowiges in die wêreld nie teen Jesus kan kompeteer nie (v.7-10).

 

Moet dan nie verder met jou sonde aanhou nie, maar stop in jou spore.  Hou op om te sê jy het nie tyd vir die Bybel, gebed, die kerk en die Here nie.  As dit vir jou belangrik was, sou jy tyd gemaak het, maar nou verafgod jy ander goed.  Los jou selfgesentreerde lewe van bitterheid, bakleiery, seksuele sonde, wellus, oneerlikheid, luiheid, materlialisme, gierigheid, leuens, hoogmoed, jaloesie en ander sondes.

 

Vertrou dat Jesus sterk en gewillig is om jou te red.  Glo dat die liefdevolle en barmhartige Vader sy volmaakte Seun se lewe, kruisdood en opstanding in jou plek sal aanvaar.  Besef dat Hy jou enigste hoop is, en dat daar sonder Hom geen redding is nie.  Roep uit dat die Here jou sal vergewe en wag geduldig tot Hy jou antwoord.  Hy sal, “Want:  Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Rm.10:13).

 

Eers as dít gebeur het, kan jy jou gedagtes oor die millennium uitsorteer.  Eintlik móét jy dit uitsorteer en nie soos sommige sê:  ‘Maak dit regtig saak of ek Op.20 verstaan of nie?  Op die einde sal alles buitendien uitwerk soos dit moet’ nie.

 

As die Here wou gehad ons moet dit nie verstaan nie, sou Hy dit nie in die Bybel gesit het nie (Dt.29:29).  Maar omdat dit in die Bybel is, moet ons ons beste doen om dit reg te interpreteer en toe te pas (2 Tm.2:15, 3:16-17).

 

[2] Wees soos die Jode in Berea:  toets die preke wat jy lees en hoor – ook hierdie een en volgende week s’n – aan die Skrif (Hd.17:11).  Wat jy lees en hoor moet duidelik sigbaar wees in die teks.  Moenie sê:  ‘Ek sien dit nie eintlik nie; hy het egter vir jare teologie studeer, en daarom móét dit reg wees’ nie.

 

Geen prediker is onfeilbaar nie.  Op die einde van die dag moet jy met ‘n skoon gewete voor die Here staan en sê:  ‘Ek het na die preke geluister en dit aan die Bybel gemeet.  Wat ek oor die millennium en die eindtyd geglo het, het ek in die teks gesien.’

 

Moenie sê:  ‘Ek het verkeerd geglo omdat die ds. (of John MacArthur, William Hendriksen en Iain Murray) verkeerd gepreek en geskryf het’ nie.  Ons vergeet dat lidmate óók verantwoordelik is om die Bybel reg te interpreteer.  Moet dan nie alles wat jy in preke hoor en in boeke lees vir soetkoek opeet nie, maar toets dit aan die Skrif.

 

[3] Iemand het die millennium só gedefinieer:  ‘Dit is ‘n duisend jaar van vrede waaroor Christene graag baklei.’  Dit hoort nie so nie.  God wil hê dat ons mekaar met die eindtyd moet bemoedig.  “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Ts.4:18), moenie verander word in, “Bestry mekaar dan met hierdie woorde” nie.

 

Die detail van Op.20 moenie skeiding bring tussen Christene nie.  M.b.t. Op.20 en die eindtyd is die hoofsaak dat ons die onderstaande vier punte moet glo:

 

  • Jesus sal in die toekoms vir ‘n laaste keer na die aarde toe terugkeer. Sy koms sal persoonlik en sigbaar wees (Hd.1:9-11).
  • Die dooies sal uit die grafte uit opstaan (Jh.5:28-29, 1 Kor.15).
  • Jesus sal elke mens oordeel (v.11-15, Mt.25:31-46, Rm.2:1-16). Vir ongelowiges sal die oordeelsdag ‘n hofsaak wees waarná die Here hulle sal straf; vir gelowiges sal dit ‘n prysuitdeling wees (v.12-13, 1 Kor.3:12-15).
  • Ongelowiges sal vir ewig in die hel gepynig word, terwyl gelowiges vir ewig in liefde, vrede en blydskap by Jesus sal wees (v.15, 21:3, 8, 14:10-11, Mt.25:34, 41, 46).

 

Mense wat die bg. vier punte verwerp, wyk af van dit wat Christene deur die eeue geglo het en moenie as gelowiges beskou word nie.[6]  Indien hulle dit egter aanvaar en regtig die Here ken, moet ons hulle in liefde verdra, al stem ons nie met hulle saam oor die millennium nie.

 

[4] Jou siening oor die millennium raak nie die egtheid van jou belydenis nie, maar dit beïnvloed die manier waarop jy lewe.

 

Dit beïnvloed jou gebede, of herlewing ‘n prioriteit is in jou gebede.  Dit beïnvloed jou fokus in sendingwerk:  werk jy net vir die bekering van die mense in jou omgewing, of dink jy aan die geslagte wat kom?

 

Dit beïnvloed hoe jy die nuus en wêreldgebeure interpreteer, vernaamlik wat in die Midde-Ooste gebeur.  Dit beïnvloed of jy paranoïes raak oor e-posse en Whatsapp boodskappe wat handel oor die Nuwe Wêreld Orde, die Verenigde Nasies, die Illuminati, die Vrymesselaars, die 666, ens.

 

Vir sommige beïnvloed dit selfs of hulle op Facebook is, waar hulle hulle geld belê, hoeveel kinders hulle het, en of hulle vir hulle kinders Fidget Spinners koop.

 

Die millennium en ander eindtyd gebeure is dan nie onbelangrik soos sommige dink nie.  Maar dit is ook nie nodig om te doen wat ‘n groep Amerikaners met een van ons dosente gedoen het nie.  Toe hulle uitvind dat hy nie soos hulle glo oor die millennium nie, het hulle hele gesindheid teenoor hom verander.  Hulle optrede was nie net ongeskik nie, maar onbybels.

 

[1] Samuel E. Waldron, MacArthur’s Millennial Manifesto, p.1

[2] Daar is variasies in die verskillende sienings, soos wat daar meer as een soort C-Klas Mercedes is.  Ek gaan ‘n generiese verduideliking gee, en nie fokus op die variasies in elke siening nie.

[3] Die diagramme is redelik eenvoudig en bevat nie elke detail van die verskillende sienings nie.

[4] Postmillennialiste glo dat Mt.24 (ten minste v.1-35) in 70 n.C. vervul is.  Nie alle postmils glo egter dat Op.6-19 reeds vervul is nie.

[5] Justin Martyr, Dialogue with Trypho, ch.80 aangehaal in Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope, p.26

[6] Ibid., pp.245-248

Die Ruiter op die wit perd

Rider on white horse

In Laurika Rauch se liedjie ‘Hot Gates’, sing sy van verskillende wêreldstede, ‘n Ruiter op sy perd, en ‘n stad met strate van goud.  Die idee van ‘n Ruiter op sy perd het sy waarskynlik in Op.19:11-21 gekry.  Volgens sommige gaan hierdie hoofstuk oor die wederkoms.  Ek is nie daarvan oortuig nie.

 

Volgens Hd.1:9-11 sal Jesus in die toekoms na die aarde toe terugkeer soos wat Hy na die hemel toe opgevaar het.  Hy het in ‘n wolk opgevaar, en in Op.19 is daar nie sprake van ‘n wolk nie.  Die wit perd in Op.19 stem ook nie ooreen met sy hemelvaart in Hd.1 nie.

 

Dit lyk eerder of hierdie gedeelte Jesus se oorwinning oor die Jode en die Romeine beskryf.  En tog is dit ook ‘n voorskou van Christus se triomf deur die geskiedenis, wat dan sy klimaks in die wederkoms bereik.

 

Sy identiteit (v.11-16)

My dogter neem perdry lesse.  Om by ‘n groot perd te staan is nogal intimiderend.  Hoe moes dit dan gewees het om die groot Koning met ‘n skerp tweesnydende swaard, ‘n bloed-deurweekte kleed en vlammende oë op sy wit oorlogperd te sien?

 

As ‘n Romeinse generaal sy vyande oorwin het, het hy op ‘n wit perd in Rome in gery.[1]  In v.11 het die hemel oopgegaan en het Johannes gesien hoe Jesus as die Oorwinnaar op sy wit perd gery het (vgl. 6:2, kontr. Mt.21:5).  Volgens sy getroue, regverdige en waaragtige karakter, het Hy teen sy vyande geveg en hulle geoordeel (v.11, 1:5, 3:7, 14, Ps.96:13, Jes.11:4).

 

Met sy alsiende vlammende oë het Hy die mens se hart gesien (v.12, 1:14).  As die soewereine Koning het Hy baie krone op sy kop gehad (v.12, 16, kontr. 12:3, 13:1).  Almal kon sy Naam gesien het (v.16), maar Hy alleen het die volle omvang en betekenis daarvan verstaan (v.12, 1 Kor.2:11).

 

Volgens v.13 is sy kleed in bloed gedoop (ek sal in v.15 hierop uitbrei).  Hy het God se gedagtes bekend gemaak, en is daarom ‘die Woord van God’ genoem (v.13, Jh.1:1, 18).

 

Die hemelse weermag het met rein wit linne klere op wit perde agter Hom aan gery (v.14).  Sommige dink dat dit engele was (2 Kon.6:17, Ps.68:17, Mt.25:31, 2 Ts.1:7), maar in die konteks van v.8 lyk dit of die bruid met haar rein wit linne klere die hemelse weermag was (17:14, Ef.5:22-33, 6:10-18).

 

Jesus het die skerp tweesnydende swaard van God se Woord in sy mond gehad (v.15, 13, 1:16, Jes.49:2).  Daarmee het Hy die nasies se harte bloot gelê (v.15, Heb.4:12-13).  As hulle voor Hom gebuig het, het Hy hulle vergewe (Ps.2:8, 10-11).  Maar as hulle rebels was, het Hy hulle met die swaard van sy mond getref (v.15, 2:16, Jes.11:4).  Soos klei potte het Hy hulle met ‘n yster septer stukkend geslaan (v.15, 12:5, Ps.2:9, 12, 1-4, Jes.60:12).

 

Soos druiwe in ‘n parskuip, het Hy hulle onder sy voete vertrap, sodat hulle bloed sy kleed deurweek het (v.15, 13, 14:19-20, Ps.110:1).  Op sy bloed-deurweekte kleed en heup was daar ‘n Naam:  die Koning van die konings en die Here van die here (v.16, 1:5, 17:14, Dn.2:47, 1 Tm.6:15).  Die punt is dat Hy sy vyande maklik oorwin het, en dat elke heerser in die hemel en op aarde hulle gesag by Hom ontvang het (Dn.2:21, Jh.19:11, Rm.13:1).

 

Sy vyande (v.17-21)

Elke dag teen sononder is daar ‘n klomp watervoëls wat in ‘n V-formasie oor my ouers se huis vlieg.  My suster-hulle probeer soms om te tel hoeveel voëls daar in so ‘n formasie is.  Hulle het een keer meer as 100 getel (en dan is dit net een formasie – daar is elke dag ‘n klomp van hulle).  As ek hieraan dink, wonder ek hoeveel voëls in Op.19 aan die lyke kom aas het?

 

Johannes het ‘n engel gesien wat in die son staan (v.17).  Hy het met ‘n harde stem vir die roofvoëls gesê om te vergader vir die groot ete wat God vir hulle voorberei het (v.17, kontr. v.7-9).  Die roofvoëls het aan die lyke van konings, bevelvoerders, dapper soldate, perde en hulle ruiters, slawe en vrymanne, groot en klein geaas (v.18).

 

Die arende, aasvoëls, kraaie en ander roofvoëls wat op die lyke gesit en aas het, was ‘n teken van God se vervloeking en vyandskap (Dt.28:26, 1 Kon.14:11, Jer.12:9, Esg.39:4, 17-20).  In v.19-21 wys Johannes vir ons wie hierdie vyande was.

 

Die dier van die Romeinse Ryk en die konings van die land [Gk. ] het gekom om teen Jesus en sy hemelse weermag te veg (v.19, 16:14, 16).  Hulle wou die kerk en haar boodskap uitwis, maar hulle was onsuksesvol.  Jesus het die dier en die vals profeet (die Romeinse Ryk en die afvallige Jode) gevange geneem (v.20).[2]

 

Hy het hulle lewendig in die hel, in die poel van swawel en vuur gegooi (v.20, 14:10, 20:10, 15, 21:8, Nm.16:33, Dn.7:11).  Hy het die Jode in 70 n.C. geoordeel, en die Romeinse Ryk in 410 n.C.  Omdat hulle sy bruid vervolg het, het Hy hulle in die hel gegooi.

 

Hy het die res van die nasies wat teen Hom was, met die swaard van sy mond geoordeel (v.21).  Die voëls het op hulle lyke toegesak en hulleself trommeldik geëet (v.21, 17-18).

 

Die groot vraag is nie of hierdie verse oor die wederkoms gaan of nie, maar of Jesus aan jou kant is.  Maak dan seker dat Hy jou Vriend is en nie jou Vyand nie.  Hoe doen jy dit?

 

Moenie saam met die wêreld teen Hom rebelleer, of dink jy kan êrens sondig waar sy vlammende oë jou nie kan sien nie (v.12).  Los eerder jou sonde en erken dat jy besig is met verkeerde dinge.  Dalk beplan jy om sonde te doen as jy hierdie preek klaar gelees het of as jy hier uitstap (Am.8:5-6).

 

As ek jy is sal ek dit nie doen nie, maar dinge met die Here regmaak (veral na die beskrywing wat Johannes in v.11-16 van Hom gegee het).  As jy jou nie bekeer nie, sal Christus op sy wit perd teen jou kom soos wat Hy dit teen Jerusalem en Rome gedoen het (v.11).  Omdat Hy getrou en waaragtig is, sal Hy sy regverdige dreigemente en oorlog teen jou voer en uitvoer (v.11).  Só sal Hy dit doen:

 

  • Met die vlymskerp swaard van die Gees (Ef.6:17) sal Hy jou siel deurboor (v.15, Heb.4:12-13).
  • Hy sal jou met sy yster septer verpletter (v.15, Jes.30:14, Jer.19:10-11).
  • Hy sal sy voete in jou bloed was en sy klere daarin doop (v.13, 15, Ps.58:11, Klg.1:15, Jes.63:1-6).
  • Hy sal jou liggaam vir die voëls van die hemel gee (v.17-18, 21).
  • Soos met die dier en die vals profeet, sal Hy jou in die poel van swawel en vuur gooi (v.20).

 

Moet dan nie langer vir jouself lewe nie.  As jy vir jouself die belangrikste is, is jy soos ‘n kind wat op die koning se troon sit – jou voete raak nie eers die grond nie.  Die troon van jou hart is nie gemaak sodat jý daarop kan sit nie; dit is vir God bedoel.  Hoe gouer jy besef dat jy nie die koning is voor wie jou man, vrou, kinders, ouers, familie, vriende, kollegas en ander mense moet buig nie, hoe beter.

 

Klim eerder van die troon af en buig voor Jesus Christus wat baie krone op sy kop het (v.12).  Erken en bely dat Hy die Koning van die konings en die Here van die here is (v.16).  Aanbid en bewonder Hom as die Woord wat God aan ons openbaar, maar in dieselfde asem nooit ten volle geken kan word nie (v.12-13).  Vertrou Hom met jou hele lewe en word deel van die hemelse weermag wat Hom volg (v.14).

 

As Hy aan jou kant is hoef jy nie bang te wees nie (Rm.8:31).  Hy het die duiwel en die wêreld aan die kruis oorwin (Jh.12:31, 16:33, Kol.2:15, 1 Jh.3:8).  Dié wat in Hom glo volg in die voetspore van sy oorwinning (v.14).  Die duiwel en die wêreld kan ons nie oorwin nie (Mt.16:18, 1 Jh.5:4-5).  Met die swaard van die Woord sal Jesus die waarheid bevorder en elkeen van die duiwel se vals leringe tot ‘n einde bring (v.14-15).

 

Hy sal dit op groot skaal doen, maar dit beteken nie dat Hy van die individu vergeet het nie.  Hy is persoonlik betrokke in elke gelowige se stryd teen die ou sondige natuur, die duiwel en die wêreld.  Hy is bewus van die stryd wat jy in jou gedagtes het.  Hy voel saam met jou, omdat Hy dit self ook deurgemaak het (Mt.4:1-11, Heb.2:18, 4:15).  Jy is dus nie alleen nie.  In 1 Jh.4:4 lees ons dat “Hy wat in julle is (God deur sy Gees), groter is as hy wat in die wêreld is (die duiwel volgens 2 Kor.4:4 en 1 Jh.5:19).”

 

God het ook alles gegee wat ek en jy nodig het om teen die bose te staan.  Om een of ander vegkuns te ken, om jouself in ‘n kamer toe te sluit, of om ‘n groot geweer in jou kluis te hê gaan nie help nie (Jh.18:10-11, 36).  Ons het die kragtige en geestelike wapens van God nodig:  die waarheid, regverdige lewens, bereidheid om die evangelie te verkondig, geloof, verlossing, die Woord van God en gebed (v.15, Mt.6:13, 2 Kor.10:3-5, Ef.6:10-20).

 

Iemand wat dit het, kán nie misluk nie.  Geen gelowige kan uiteindelik deur die duiwel oorwin word nie.  Wat Paulus vir die Romeine gesê het, geld ook vir ons:  “En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel.” (Rm.16:20).

 

Film makers se idee van ‘n prins wat op sy wit perd ry om sy prinses te red, is onrealisties.  Maar in Op.19 is dit ‘n werklikheid.  Soos in Hab.3:8 en 15, ry Jesus op sy perd en oorwin Hy sy vyande.  En as Hy dit klaar gedoen het, sal Hy nie soos in Randall Wicomb se ‘Blink Vosperd’ liedjie op sy perd ry om haar te kom haal nie.  Hy sal op die wolke kom en na sy bruid toe neerdaal om vir ewig by haar te wees.

 

[1] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Rev.19:11

[2] Ek het in hfst.13 gewys hoe die vals profeet in die teenwoordigheid van die dier vals tekens gedoen het.  Daar het ek ook die merk van die dier verduidelik, asook wat dit beteken dat die mense sy beeld aanbid het.  Die titel van die preek is:  Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666).

Die hemel se volkslied

Hallelujah-Chorus

Die wêreld weet nie wat halleluja beteken nie.  Jare gelede was daar ‘n populêre lied wat gesê het:  ‘It’s raining men, hallelujah!’  In sommige kerke dink mense nie mooi voordat hulle ‘halleluja’ of ‘amen’ sê nie.  Ek het ‘n diens bygewoon waarin mense ‘amen!’ geroep het toe die spreker sê:  ‘Ons staan agter op ‘n trok in Rusland…’

 

Wanneer ek dan in hierdie preek die woord ‘halleluja’ gebruik, bedoel ek dit nie as ‘n cliché nie, maar gebruik ek dit soos wat Johannes dit in Op.19:1-10 gebruik het.

 

Die eerste halleluja (v.1-2)

Omdat die woord ‘halleluja’ so algemeen in ons musiek voorkom, dink ons nie altyd mooi wat ons sê wanneer ons dit sing nie.  Dit was nie die geval in Op.19 nie.

 

Johannes het iets gehoor wat geklink het soos die stem van ‘n baie groot menigte in die hemel (v.1, 5:11-14, 7:9, 11:15).  ‘Halleluja!’ het hulle uitgeroep (v.1).  Ek het vroeër in die reeks gesê dat ‘halleluja’ slegs hier in die Nuwe Testament voorkom, en dat dit letterlik ‘prys Jah(we)’ beteken.

 

Waarvoor het hulle die Here geprys?

 

[1] Die mens se verlossing kom geheel en al van die Here af (v.1, Rm.8:29-30, 11:36, Ef.2:8-9).  Die Here het ook sy bruid van die prostituut se onderdrukking verlos (18:20).

 

[2] Omdat verlossing van die Here af kom, het hulle gesê dat die heerlikheid aan Hom behoort en aan niemand anders nie:  Soli Deo Gloria (v.1, Jes.48:11).

 

[3] Hulle het Hom ook geprys dat Hy die mag gehad het om te skep, te onderhou, die geskiedenis te beheer, te verlos en te oordeel (v.1).

 

Die rede hoekom hulle Hom so geprys het, is omdat Hy waaragtig en regverdig was toe Hy die groot prostituut genaamd Babilon – dit is, Jerusalem – geoordeel het (v.2, hfst.17-18).[1]  Dit was immers a.g.v. háár geestelike egbreuk dat die land [Gk. ] in ‘n moeras van immoraliteit verval het (v.2).

 

Verder was dit ook sý wat die bloed van die Here se diensknegte vergiet het, en daarom het Hy wraak geneem en haar geoordeel (v.2, 18:20, 24, 16:6, Dt.32:35, 41, 43, Lk.11:47-51, vgl. 2 Kon.9:7).

 

Die tweede halleluja (v.3)

Robert Murray McCheyne was ‘n Skotse prediker in die 1800’s.  Op 9 Nov. 1834 het hy gehoor dat iemand wat baie verkeerde lering versprei het, gesterf het.  Hy was bly oor die nuus.[2]  Toe ek dit gelees het was ek aanvanklik geskok.  Maar as ek dit met Op.19 vergelyk, besef ek dat hy reg was.

 

Die groot menigte van v.1 het weer ‘halleluja!’ geroep (v.3).  Jerusalem was soos Sodom, en daarom het haar rook soos Sodom s’n in die lug opgestyg (v.3, 11:8, 17:16, 18:8).  Die rook was ‘n voorsmakie van die ewige straf wat sy in die hel sou beleef het (v.3, 14:10-11, Jes.34:8-10, 2 Pt.2:6, Jud.7).

 

Hoe moet ons hierdie eerste drie verse toepas?  Soos die gelowiges in hierdie verse, sal jy ook die Here vir jou verlossing prys wanneer jy in die hemel is.  Jy sal geen krediet vir jouself neem, asof die bepalende besluit vir jou redding by jóú en jou vrye wil gelê het nie.  Jy sal verstaan dat Hý die Outeur en Voleinder van jou geloof is, dat Hý die goeie werk in jou begin en volbring het, en dat Hy jou gered het tot die lof van sý heerlikheid (Heb.12:2, Fil.1:6, Ef.1:6, 12, 14).

 

Jy sal Hom ook prys vir sy regverdige oordele oor OGOD en hulle ateïstiese ondersteuners, ISIS en ander Moslem-groepe, die Kommuniste, en die res van die kerk se vyande (v.2, Ps.58:11).  Jy sal bly wees dat jy nie self wraak geneem het nie, maar dat jy dit vir die regverdige God gelos het.  Jou lofprysing sal nie sadisties wees, sodat jy lekker kry oor jou vyande wat in die hel is nie.

 

Maar jy sal ook nie hartseer wees nie.  God se heilige grootheid, geregtigheid en almag sal so oorweldigend wees, dat dit alles oorskadu.  Jy sal sê dat dit goed en reg is dat Hy die kerk se vyande in die hel gewerp het.

 

Jy sal ook opnuut dankbaar wees dat Hy jou gered het, en dat jy nie saam met die goddelose in die hel is nie.  Jy sal besef dat jy die hel verdien het, en dat dit sy vrye genade is wat die verskil gemaak het.  Jy sal nie anders kan as om Hom vir ewig te prys in alles wat jy doen nie.

 

Die derde halleluja (v.4-5)

Ek het by twee geleenthede iemand in die hof gaan ondersteun.  By beide geleenthede het ‘n polisieman my aangespreek:  een keer omdat ek ‘n hoed op my kop gehad het, en die ander keer omdat ek teen die muur gestaan het.  En as die hof so ernstig was dat ek respek moes wys, hoeveel te meer is dit nie die geval in die hemel nie?

 

Die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens het voor die troon geval en die Here aanbid wat daarop gesit het.  Ek het in hfst.4 gewys dat die 24 ouderlinge ‘n rangorde van engele is, en dat die 4 lewende wesens gerubs is.[3]

 

Hulle het op hulle gesigte voor die troon geval en die Here aanbid (v.4).  Hulle ‘amen’ het die groot menigte van v.1-3 se ‘halleluja’ ge-eggo (v.4).  Dit is asof hulle gesê het:  ‘Dit ís so; ons stem saam dat die Here geprys moet word.’

 

Daar het ‘n stem van die troon af gekom:  “Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!” (v.5).  Die stem wat van die troon af gekom het was Jesus s’n.  In sy menslike natuur was die Vader ook sý God, en het Hy Hom geprys (Ps.115:1, Jh.20:17, Ef.1:3, 17, Heb.2:12).  Hy het vir God se knegte, vir die wat Hom vrees, gesê om Hom te prys (v.5, 1-10).  Dit het vir almal gegeld, klein en groot (v.5, 11:18).  Dit is tog hoekom Hy hulle gemaak het (Ps.148:2, 11-14, Jes.43:7, 21).

 

En as jy hiervoor geskep is sal jou siel nie rus, totdat jy dit doen nie.  Ek bedoel nie net dat jy ‘Jesus-liedjies’ moet sing nie, maar dat jy deur tydsame gebed en bepeinsing in ‘n verhouding met die Here moet leef.  As jy dit gereeld doen sal jy op een of ander stadium ‘n diep ervaring met die Here hê, sodat jy nie anders kan as om Hom te prys nie.

 

Eers dán sal jy besef dat ware lofprysing die hoogste piek is wat jy ooit in hierdie wêreld en in die volgende een sal bereik.  Ewe skielik sal die plesiere van hierdie wêreld vir jou leeg en hol wees.  Jy sal agterkom dat drank, vriende, jou huweliksmaat en kinders, seks, rykdom, nuwe goed, ‘n ander werk, lekker kos, populariteit en aansien, akademiese grade, jou net tydelik gelukkig kan maak.  Om ware vervulling, satisfaksie en versadiging te hê, moet jy die Here prys.  Dit kan nie anders nie, omdat Hy jou hiervoor gemaak het.

 

Die vierde halleluja (v.6-9)

Wanneer iemand in Johannes se tyd verloof geraak het, moes hy ‘n bruidsprys aan die bruid se pa betaal het.  Verlowing was meer bindend as wat dit vandag is; dit moes met ‘n amptelike skeibrief verbreek word (Mt.1:18-25).

 

As die man klaar verloof geraak het, het hy vir ‘n kort tydjie weggegaan om alles gereed te kry vir die troudag.  As dit gereed was, het hy sy bruid kom haal en haar na sy huis toe gevat.

 

Hulle het vir sewe dae fees gevier, en aan die einde daarvan beloftes uitgeruil.  Daarna het hy haar in sy huis ingebring.[4]  Dit sal help om hierdie agtergrond in gedagte te hou wanneer jy v.6-8 bestudeer.

 

Johannes het weer ‘n stem gehoor wat soos ‘n groot menigte klink, soos die gedreun van baie waters en soos die geluid van harde donderslae (v.6, 14:2).  Hulle het die Here met ‘n ‘halleluja’ geprys, omdat Hy as die Almagtige God regeer het (v.6).  Sy aardse Koninkryk het begin toe Jesus na die hemel toe opgevaar het en dit in sy Naam geregistreer is; dit sal oor die wêreld versprei en by die wederkoms vervul word (hfst.5, 11:15, 17, Ps.2:6-8, 110:1, Dn.2:35, 7:13-14, Mt.4:17, 6:10, 12:28, 28:18, Lk.10:9, 17:21).

 

Net so het Jesus se huwelik by sy eerste koms begin, en sal dit by die wederkoms vervul word (v.7, Mt.9:15).  Kom ek verduidelik dit so:

 

Omdat Israel aanhoudend in die Ou Testament egbreuk gepleeg het, het die Here haar met ‘n skeibrief weggestuur (Jer.3:1-8, Mt.19:9).  Hy het haar egter vergewe en teruggevat (Hosea).  Maar in 16:21 en 17:16 het Hy genoeg gehad, sodat Hy die prostituut gestenig en verbrand het (Dt.22:22, Lv.21:9).

 

Dit het in 70 n.C. gebeur toe Hy die tempel met sy priesters en offers verwoes het, en so die ou verbond met Israel finaal tot ‘n einde gebring het (Heb.8:13, 10:9).  Maar dit is nie asof sy huwelik misluk het nie.  God se ware bruid was nog altyd dié wat in Christus geglo het, en nie dié wat as Jode gebore is en besny is nie (Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 16, 29).

 

God het in 21:2, 9, Jes.54:5, 62:5 gesê dat die hemelse Jerusalem (die kerk volgens Gal.4:26) sy bruid is.  Deur sy dood het Hy die bruidsprys betaal, en toe sy in Hom geglo het, het Hy aan haar verloof geraak (Ef.5:22-33, 2 Kor.11:2).

 

Hy het opgevaar hemel toe om alles gereed te kry vir die troudag.  Sy het ook moeite gedoen om haarself gereed te kry, deurdat sy die blink wit trourok van haar heilige en gehoorsame dade aangetrek het (v.7-8, 3:4-5, 14:4, 1 Jh.3:3).  Deur sy kruisdood het Jesus hierdie fyn linne trourok vir haar gekoop (v.8, 7:14, Gn.3:21, Ps.132:9, Sp.31:22, Jes.61:10).

 

Die punt is dat die Here sy bruid instaatgestel het om goeie werke te doen, maar dat dit sý is wat dit moes doen (v.7-8, Ef.2:10).  God se bruid moes haarself vir die hemel voorberei, maar die Here sou gegee het wat nodig was om dit te doen (Fil.2:12-13).

 

Dit beteken nie dat sy vir die hemel moes wag om fees te vier nie.  Volgens die Bybel bestaan die fees ten minste uit drie disse, en is dit so te sê ‘n driegang maaltyd.

 

  • Wanneer iemand tot bekering kom, geniet sy in die Woord, die gemeenskap van gelowiges, die nagmaal en gebed ‘n ete met die Here (3:20, Lk.10:39, 42, Hd.2:42, 1 Kor.5:8).
  • Wanneer ‘n Christen doodgaan, gaan sy dadelik hemel toe. Daar het sy ‘n voller ervaring van die feesmaal saam met Jesus (v.7, Mt.26:29, Jh.14:2-3, Fil.1:23).
  • Wanneer Jesus weer kom, sal sy vir ewig die finale dis van die feesmaal saam met Hom geniet (Jes.25:6).

 

Is dit enige wonder dat die bruid in v.7 bly was en die Here verheerlik het?  Is die bruid se blydskap joune?  Is jy reg om by die feesmaal aan te sit?  Is die klere van jou lewe rein?  Het jy dit wit gemaak in die bleikmiddel Jesus Christus se bloed, en hou jy dit so deur ‘n heilige lewe van gehoorsaamheid?

 

Jy kan ander mense flous, omdat jy elke Sondag in die kerk sit en godsdienstige dinge doen.  Maar jy kan nie die Koning flous nie – Hy sien dwarsdeur jou.  Hy weet of jy in die kerk, huis, huwelik, skool, werkplek, en vriendekring die wit klere van ‘n rein hart en ‘n heilige lewe aan het of nie (Mt.22:11-12).  As jy dit nie aan het nie, sal jy uit die kerkbanke uit hel toe gaan (Mt.22:13).

 

Sorg daarom dat jy voortdurend die wit klere van ‘n heilige lewe aan het.  Moet egter nie dink dat jy dit self so wit gekry het nie.  Jy weet goed dat Jesus hierdie wit klere vir jou gegee het.  As jy dit nog nie het nie, moet jy vir Hom vra om jou uit die modderpoel van jou sonde te red, jou in die fontein van sy bloed te was, en vir jou die wit klere van sy geregtigheid aan te trek.

 

Só kan jy weet dat Hy jou na die troue toe genooi het, en is jy baie geseënd (v.8-9).  Soos wat jy jóú huweliksmaat en gaste gekies het, het die Here sýne gekies.  Beskou dit dan as ‘n voorreg en nie as ‘n reg nie dat Hy jou gekies het om deel van sy bruid te wees, en dat Hy jou na die troue toe genooi het (v.9, Mt.22:14, Hd.13:48).[5]

 

Dank ook die Here dat hierdie nie maar net ‘n feëverhaal is soos Sneeuwitjie of Aspoestertjie nie.  Alles wat die engel vir Johannes gesê het is God se ware woorde (v.9).

 

Die laaste halleluja (v.10)

Omtrent 15 jaar gelede het ‘n vriend van my tot bekering gekom.  Hy het vir my gesê dat ek sy lewe gered het.  Ek het mooi aan hom verduidelik dat dit die Here was en nie ek nie.

 

Iets soortgelyk het in v.10 gebeur.  Johannes was so verwonderd dat hy probeer het om die engel te aanbid.  Hy het as’t ware voor die engel se voete geval en ‘halleluja’ gesê.

 

Die engel het hom dadelik gekeer en gesê dat hy God se slaaf is net soos Johannes en die profete wat van Jesus getuig het (v.10, 5, 22:8-9, Hd.10:25-26).  As Jesus dan die middelpunt van hulle boodskap was, moes Johannes Hóm aanbid het en nie die engel nie (v.10, Lk.24:25-27, 44-45, Jh.5:46).

 

Ons moet God alleen dien:  ons mag nie tot engele bid of hulle aanbid nie, hetsy gevalle engele of heilige engele (v.10, 22:8-9, Eks.20:3, Mt.4:9-10, Kol.2:18).  Ons mag ook nie ‘n ds. vir sy preke of bediening prys, asof hy die Here is wat hierdie dinge doen nie.  Verder mag geen ds. of lidmaat mense versoek om hulle te prys nie, maar moet Jesus die middelpunt van hulle boodskap en lewe wees (v.10).

 

Ten slotte moet ek sê dat enige siening oor Openbaring wat op die fyn besonderhede van die eindtyd fokus en nie op Jesus nie, glad nie oorweeg moet word nie.  ‘n Siening wat jou bang maak en jou nie dryf om ‘halleluja!’ te sê nie, eggo nie die hemel se volkslied nie en mis die punt.

 

[1] Sien my preek, Die Lam, die Prostituut en die Antichris vir ‘n bewys dat die prostituut of Babilon ‘n skuilnaam vir Jerusalem is.

[2] Iain Murray, The Puritan Hope, p.194

[3] Sien my preek, ‘n Visioen van die hemel.  Daarin het ek gewys dat die lewende wesens ooreenstem met die gerubs in Esg.1, 10.  Ek het ook gewys dat die 24 ouderlinge op trone gesit het, en dat Paulus in Kol.1:16 van sommige hemelwesens as ‘trone’ praat.  Volgens party is die 24 ouderlinge ‘n voorstelling van al die gelowiges in die Ou- en Nuwe Testamente, en is die 4 lewende wesens simbolies van die hele skepping.  Ek huldig nie hierdie siening nie, omdat Johannes in Op.7:9, 11 tussen die 24 ouderlinge en die gelowiges in die hemel onderskei.

[4] William Hendriksen, More than Conquerors, p.215

[5] Ek dink nie Johannes probeer om tussen die bruid en die genooide gaste te onderskei nie.  Christene is die bruid en die gaste wat na die troue toe genooi is, net soos wat Jesus in 7:17 die Lam en die Herder is.