Pas my skape op

shepherd-and-sheep

Spurgeon het van een ouderling gesê: ‘[He] has earned for himself the title of my hunting dog, for he is always ready to pick up the wounded birds.’[1]  As dit vir hierdie ouderling gelyk het of iemand ná die preek onder sonde oortuiging was, het hy met die persoon gaan praat en die evangelie met hom of haar gedeel.  So het hy baie mense na die Here toe gelei.

 

Maar die ouderlinge moenie net jaghonde wees nie. Hulle is ook skaaphonde wat die skape moet oppas en beskerm; herders wat vir die skape moet omgee en hulle versorg.  Dit is waaroor 1 Pt.5:1-4 gaan.

 

Die inleiding (v.1)

Jare gelede het iemand vir my ‘n reeks boodskappe van John MacArthur gegee. Dit het gehandel oor die werk van ‘n ouderling.  In een preek het hy vertel van ‘n teologiese student wat deur ‘n baie moeilike tyd gegaan het.  Die man het na hom toe gekom en sy hart voor hom uitgestort.

 

Aan die einde van hulle gesprek het MacArthur gesê hy wil vir die man bid. Toe hy by sy stoel gekniel het, het die man met sy elmboë op MacArthur se rug gesteun.  MacArthur het dit nie verwag nie, maar het gesê dat dit vir hom ‘n illustrasie was van hoe die ouderlinge mense se laste moet dra.  Hou dit asb. in gedagte wanneer jy v.1 lees.

 

In die vorige 4 hoofstukke het Petrus met die gelowiges oor lyding gepraat. In 4:12-19 het hy vir hulle gesê om lyding te verwag.  Nou, in 5:1-3, moedig hy die ouderlinge aan [Gk. parakaleō] om die gelowiges in hulle lyding te help en hulle te ondersteun.  Omdat Petrus self ook ‘n ouderling was, kon hy vir húlle gesê het hoe om ouderlinge te wees (v.1).

 

Die woord ouderling [presbuteros] verwys nie noodwendig na iemand wat oud is nie (vgl. 1 Tm.4:12, 14), maar praat eerder van iemand wat ‘oud in die Here’ of geestelik volwasse is.  Volgens Paulus in 1 Tm.3:6 moet ‘n nuwe bekeerling nie ‘n ouderling wees nie, al is hy ook hóé ywerig en aan die brand vir die Here.  ‘n Ouderling moet geestelike wysheid en ervaring hê.  As ek oor my eie lewe terugkyk, dink ek ek kon 10 jaar langer gewag het voordat ek ‘n ouderling geword het (nie dat ek nóú dink ek het geestelik gearriveer nie).

 

Die Griekse woord staan in ‘n manlike vorm wat vir ons sê dat ouderlinge mans moet wees. Hy moet die man van een vrou wees, en ook sy huisgesin goed lei (1 Tm.3:2, 4).  Hy moet die gemeente lei deur vir hulle die Woord van God te leer (1 Tm.3:2, 5:17, Tit.1:9).  Volgens 1 Tm.2:11-12, 1 Kor.14:34-35 moet die vroue nie vir die mans lering gee, en sodoende ‘n posisie van gesag uitoefen nie.  Die implikasie is duidelik:  hulle mag nie ouderlinge of predikante wees nie.

 

Die Here het tog eerste vir Adam gemaak (1 Tm.2:13, 1 Kor.11:3, 8-9). Hy moes vir Eva gelei het en nie andersom nie.  Die man moenie net die leiding in sy eie gesin neem nie, maar ook in die huisgesin van God (vgl. 1 Tm.3:15).

 

Verder weet ons ook wat gebeur het toe die duiwel vir Eva versoek het om die leiding te neem, en Adam agter haar aangeloop het (1 Tm.2:14, Gn.3:1-6). God het die man gemaak om leiding te neem.  Hy het die man op so ‘n manier saamgestel, dat ‘n aggressiewe leierskap deel van sy DNA is.  Wat beteken dit prakties?

 

  • Mans en nie vroue nie, moet bloed op hulle gesigte hê omdat hulle in die voorste linies teen die duiwel geveg het.
  • Mans en nie vroue nie, moet bereid wees om die harde kritiek in die gemeente te vat.
  • Mans en nie vroue nie, moet tydens die ergste storms aan die stuur van die skip staan.
  • Mans en nie vroue nie, moet soos kwaai honde op die wolwe en hulle vals lering afstorm om die skape te beskerm.
  • Mans en nie vroue nie, moet in die kansel staan en die Koning se boodskap uitroep.
  • Mans en nie vroue nie, moet bereid wees om die gemeente te bestraf as dit nodig is.
  • Mans en nie vroue nie, moet moeilike dinge doen soos om die finale stappe van kerkdissipline toe te pas.

 

Vroue kan geestelik volwasse wees, die Bybel goed ken, en oor leierseienskappe beskik. Maar wanneer dit by die Here se gemeente kom, moet mans die leiding neem.  En tog kan geen man dit op sy eie doen nie.  Volgens die Bybel moet daar meer as een ouderling per gemeente wees (v.1, Hd.14:23, 20:28, Fil.1:1, Jk.5:14).  Dit is immers in die veelheid van raadgewers wat daar veiligheid en oorwinning is (Sp.11:14, 15:22, 24:6).  Baie koppe is beter as een.

 

Daarom is dit verkeerd om te maak asof die predikant die alleen-leier van die gemeente is. En tog is daar iets wat ons in Engels noem ‘first among equals’.  Petrus is ‘n voorbeeld hiervan:  hy was ‘n apostel, maar ook die leier van die apostels; ‘n ouderling (v.1, 2 Jh.1, 3 Jh.1), maar ook hulle leier.

 

Op dieselfde manier is die dominee en die ander ouderlinge gelyk. En tog is hy ‘n ‘first among equals’ (Op.2:1, 8, 12, 18, 3:1, 7, 14).  Soos Petrus van die apostels, is hy die ouderlinge se segsman.  En soos Petrus, gaan sy hele lewe oor Christus se heerlikheid en lyding (v.1).  Dit geld ook vir die ander ouderlinge, al was nie een van hulle ‘n ooggetuie hiervan soos Petrus nie (v.1, Mt.26:58, 2 Pt.1:16-18).

 

Om in Christus se heerlikheid te deel, moet die ouderlinge eers van sy lyding getuig (v.1). En hoe moet hulle van sy lyding getuig?  Natuurlik moet hulle die boodskap van Jesus se kruisdood vir sondaars verkondig (1 Kor.1:23, 2:2).  Maar om dit effektief te doen moet hulle self ook gekruisigde manne wees.

 

Dit beteken dat ‘n ouderling homself moet verloën, sy kruis elke dag moet opneem en vir Jesus volg (Lk.9:23). Hy moet die begeertes van sy sondige vlees kruisig, en met die Here se hulp ‘nee’ sê daarvoor (Gal.5:24, Tit.2:11-12).  Hy moet bereid wees om vir die Here se Naam te ly, sodat hy ander gelowiges kan bemoedig wanneer hulle deur moeilike tye gaan (2 Kor.1:3-11).

 

En as hy op hierdie maniere in Christus se lyding gedeel het, sal hy ook in die heerlikheid deel wat by die wederkoms geopenbaar sal word (v.1, 4:13, 5:10, Rm.8:17). Dit geld vir elke gelowige.  Jy hoef egter nie tot dan te wag om iets van hierdie heerlikheid te smaak nie; jy kan nou al iets daarvan ervaar.

 

Hoe? Deur die Here se verlossing en vergifnis; in die Bybel, gebed, die nagmaal, die samekoms van die gelowiges en lofliede; deur die Gees se werk in jou hart wanneer jy vir Jesus se onthalwe moet ly (4:14, 1:8).

 

Het dit al gesmaak en gesien dat die Here goed is?  Nee?  Jy sal ook nie, totdat jy nie die bitter smaak van jou eie sonde geproe het nie:  jou hoogmoed, selfsug, wellus, egbreuk, jaloesie, gierigheid, onvergewensgsindheid, haat, leuens en baie ander sondes.  Jy moet eers deur geloof en bekering oor die kruis struikel, voordat die Here vir jou die kroon van die lewe sal gee; lyding voor heerlikheid (v.1).

 

Die opdrag (v.2-3)

Daar is twee predikante vir wie ek so lief is en vir wie ek soveel respek het, dat ek al gewens het om ‘n lidmaat in hulle gemeentes te wees. Hulle is vir my ‘n goeie voorbeeld van wat dit beteken om ‘n Bybelse herder te wees, omdat hulle die opdrag in v.2-3 ernstig opneem.  Wat is die opdrag?

 

“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is” (v.2, vgl. Jer.23, Esg.34, Jh.21:15-17). Die ouderlinge moet vir die skape doen wat ‘n herder vir sy kudde doen (Ps.23, Jh.10):

 

[1] Hy moet vir hulle die groen weiding en vars water van God se Woord gee (Jer.3:15).

 

[2] Hy moet seker maak dat al die skape veilig in die kraal van God se gemeente is. As hy sien dat hulle in die duisternis van sonde verdwaal het, moet hy hulle gaan haal.

 

[3] Hy moet die skape wat met sonde besig is dissiplineer.

 

[4] Hy moet dié wat geestelik siek is met die medisyne van God se Woord voed.

 

[5] Hy moet die skape teen die vals lering van die wolwe beskerm.

 

[6] Hy moet die salf van vertroosting en bemoediging op hulle wonde smeer.

 

[7] Hy moet sag werk met die lammers, met die jong bekeerlinge.

 

[8] Hy moet geduldig werk met die ou en siek skape wat agter raak, asook met dié wat emosioneel uitgeput is.

 

In al hierdie dinge moet hy onthou dat hy met God se kudde werk, die kudde wat Hy met sy bloed gekoop het (v.2, Jh.10:11, Hd.20:28).  Die skape behoort nie aan Mnr. Ouderling om met hulle te maak soos hy wil nie.  Hy gaan rekenskap moet gee oor hoe hy met die Here se skape gewerk het (Heb.13:17, Jk.3:1).

 

Die ouderlinge moet ook die skape ken om hulle reg te voed. Hulle moet weet wie die melk van vertroosting moet drink en wie die inspuiting van vermaning nodig het.  Hulle moet weet wie deel van die kudde is en wie nie.  Hulle moet weet wie nog nie deur die hek van geloof en bekering in die kraal ingekom het nie.

 

‘Die kudde onder julle’ (v.2) impliseer ook dat ons vir die mense in ons gemeente verantwoordelik is.  Dit is nie ons plig om Jan se susterkind in die hospitaal te besoek, of om tannie Sarie van Klerksdorp te beraad nie.  Húlle ouderlinge moet dit doen.

 

Ons moet ook versigtig wees vir mense wat net in die kerk belangstel wanneer hulle siek is en ‘n besoek nodig het, wanneer hulle berading soek, wanneer hulle hulle kinders wil toegewy, wanneer hulle wil trou, of as hulle ‘n familielid moet begrawe.

 

Sodra jy hulle klaar gehelp het, dan verdwyn hulle belangstelling in die Here en sy gemeente soos mis voor die son. Hulle is nie deel van die kudde onder ons nie (v.2), en daarom is hulle nie primêr ons verantwoordelikheid nie.  Ons mag hulle help, maar hoef nie skuldig te voel as ons nie die tyd daarvoor het nie.

 

Om die Here se kudde te versorg moet ons as herders toesig oor hulle hou (v.2, Hd.20:28, 1 Tm.3:1, Tit.1:7). Met een oog moet ons hulle behoeftes raaksien, en met die ander oog moet ons op die uitkyk wees vir gevaar.  Om meer spesifiek te wees is daar drie dinge wat ons moet doen, en drie wat ons nie moet doen nie:

 

“NIE uit dwang nie, maar gewilliglik; NIE om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook NIE as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde.” (v.2-3, eie beklemtoning).

 

Niemand moet ‘n herder wees, omdat die Afrikaner-kultuur, sy familie tradisie of sy vriende hom gedwing het nie (v.2). Die onuitblusbare vuur van God se roeping in sy hart moet hom gewilliglik verplig om dit te doen (v.2, 1 Tm.3:1, 1 Kor.9:16, Jer.20:9).  ‘…willingly, as God would have you’ sê die ESV (v.2).

 

Die gewillige dwang impliseer ook dat hy nie lui moet wees nie. Indien hy dink:  ‘Ek wil ‘n dominee word, want dan hoef ek net op Sondae te werk,’ moet hy eerder strate gaan vee.  Ouderlinge moet hard werk.  Dié van hulle wat voltyds in die amp dien het nie die tyd om ‘n ander inkomste te genereer nie, en daarom moet die gemeente hulle vergoed (1 Tm.5:17-18).

 

Maar hulle moet versigtig wees dat geld nie die rede word hoekom hulle dien nie (v.2, 1 Tm.3:3, Tit.1:7).  Hulle moenie op mense se gevoelens speel om geld te kry nie (Lk.16:14, 20:47, Tit.1:11).  ‘n Brandende ywer vir Christus en nie die verterende vuur van geldgierigheid nie, moet hulle dryf (v.2).

 

‘n Wellus na mag moet ook nie ‘n plek hê in hulle lewens nie: hulle moenie soos ‘n kultus-leier here wil wees oor mense se lewens nie (v.3, Esg.34:4, Mt.20:25-28).  Hulle gesag begin by Gn.1 en eindig in Op.22.  God het aan hulle die reg gegee om deur die Woord te regeer oor die erfdeel wat Hy aan hulle toevertrou het (v.3, 1 Tm.5:17).

 

Hulle mag daarom vir die gemeente te sê: ‘Moenie tyd mors op Facebook, jou neus in ander mense se sake steek, of toelaat dat jou oë lelike dinge sien nie.’  Maar in hulleself het hulle geen gesag nie, en daarom het hulle nie die reg om te sê:  ‘Vir enige gemeentelid om op Facebook te wees is sonde’ nie.

 

Maar ‘n ouderling moenie net vir die mense wat om te doen nie; sy lewe moet ‘n voorbeeld wees (v.3, 1 Tm.4:12, Tit.2:7-8).  Hy moet ‘n 1 Tm.3-tipe karakter voor die gemeente uitleef (v.3).  Hy moenie ‘n bokwagter wees wat die kudde met sy bevele dryf nie, maar ‘n skaapwagter wat hulle deur sy voorbeeld lei.  ‘Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg’ is wat hy vir hulle moet sê (1 Kor.11:1, NAV).

 

Die motivering (v.4)

In vers 2 van Halleluja-lied 242 sing ons: ‘Nie vir glorie stry ons, nie vir kroon of palm’.  Ek weet nie wat die outeur daarmee bedoel het nie, maar dit is tóg so dat die Here ons soms met belonings motiveer (1 Kor.3:12-15).  Hy weet dat die ouderlinge se taak dikwels ‘n ondankbare werk is.  Daarom motiveer Hy hulle met die beloning wat die Opperherder, Jesus, by sy wederkoms vir hulle sal gee (v.4, 2:25, Ps.23:1, Jh.10:11, Heb.13:20).  Dit moet hulle aanspoor om v.2-3 uit te voer en getrou te dien.

 

Wat is die beloning? Petrus praat van ‘n onverwelklike kroon van heerlikheid (v.4).  Hy wil hê dat sy lesers moet dink aan die blarekrans [Gk. stephanos] wat in antieke sportspele aan die oorwinnaar gegee is; ‘n blarekrans wat na ‘n paar dae verlep het.  In kontras daarmee sou die Opperherder aan hulle ‘n kroon van heerlikheid gegee het wat nie verlep nie (v.1, 4, 1 Kor.9:25).

 

Hiervoor het die Here ons gered, “sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1:4). Geskenke wat jy op die aarde kry word oud en vergaan.  Maar die beloning wat jy op die oordeelsdag sal kry word nuuter, beter en voller hoe langer jy dit het.

 

Dit kan nie anders nie, omdat Christus self die beloning is: “In dié dag sal die HERE van die leërskare wees tot ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk” (Jes.28:5).  Dit is nie dat Jesus beter kan word nie, maar dat ons ervaring van Hom al hoe ryker sal word.  ‘Ever-increasing joy,’ is wat Jonathan Edwards dit noem.

 

Dit sal nie wees soos iemand wat in ‘n sjokolade fabriek werk en vir ‘n maand lank elke dag sjokolade eet, maar dit daarna soos die pes vermy nie. Hoe meer jy van Jesus en sy heerlikheid smaak, hoe meer sal jy wil hê (Jh.17:24, 2 Ts.1:10).  Wees dan soos Paulus en “vergeet die dinge wat agter is en strek [jou] uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” (Fil.3:14).

 

‘n Olimpiese atleet wat vir maande lank 05:00 moes opstaan, geoefen het totdat sy naar is, en haarself gedissiplineer het om reg te eet, gee nie om vir die moeite wanneer sy die dag die goue medalje wen nie.

 

Net so sal geen herder of lidmaat spyt wees oor die opoffering as hulle eendag die glimlag op Jesus se gesig sien, en Hy vir hulle sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor [min] was jy getrou, oor [baie] sal ek jou aanstel.  Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Mt.25:21).

 

Wees daarom “standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” (1 Kor.15:58).

 

[1] Autobiography: vol.2, p.76

Advertisements