‘n Boodskap oor vermetelheid en dronkenskap

Drinking

Tydens een aanddiens het ‘n dronk vrou aanhoudend die preek onderbreek.  ‘Amen!  Ja, is pastoor!  Amen!’ het sy gesê.  By drie ander geleenthede het mense wat vol van dwelms was my straat prediking geopponeer.  Een man het my gevloek, ‘n ander een met my sleggesê, en die ander een het uitgeroep dat ons nie van God af is nie.

 

So het die dronk mense in Jes. 28:1-13 vir Jesaja geopponeer.  Die Here het hom met ‘n boodskap teen hulle gestuur.  Dit was hoofsaaklik ‘n boodskap oor hulle vermetelheid en dronkenskap.

 

Samaria se gemak (v.1-6)

Holland is ‘n streek aan die weskus van Nederland, maar die naam word ook gebruik om na die land in sy geheel te verwys.  Dieselfde was waar van Efraim:  dit was een van die twaalf stamme, maar is later gebruik om na die hele noordelike ryk van Israel te verwys (bv. in Hosea).

 

Toe Salomo dood is, het Israel in twee geskeur.  Samaria was die hoofstad van die noordelike ryk, terwyl Jerusalem die hoofstad van die suidelike ryk was.  In v.1-6 het Jesaja God se weë of oordele oor die noordelike ryk uitgespreek.

 

Samaria was op ‘n heuwel gebou (1Kon. 16:24).  Die stadsmure het soos ‘n kroon op iemand se kop gelyk (v.1).  ‘n Groen vallei van wingerde het Samaria omring; die stad het soos ‘n pragtige blom uitgestaan (v.1).  Samaria se inwoners was trots op hulle ‘kroon’ (v.1).  As God se volk het hulle vas geglo dat hulle veilig is.  Gevolglik het hulle ‘n gemaklike lewe van dronk partytjies gelei (v.1, Amos 2:8, 4:1, 6:6).

 

Hulle het nie opgemerk dat die blom besig is om te verlep nie (v.1, 40:6-8).  In 722 v.C. het die Here Assirië soos ‘n verwoestende haelstorm teen Samaria gestuur en haar in die vloed van sy oordele verdrink (v.2, 8:7).  Hy het die stad op die grond gegooi, die kroon en die pragtige blom onder sy voete vertrap (v.2-4a).  Deur Assirië het Hy Samaria soos die eerste ryp na-vy van die seisoen gepluk en ingesluk (v.4b).

 

Deur die Messias se Koninkryk sal God self ‘n kroon van heerlike skoonheid vir die oorblyfsel van sy volk sal wees, en sal Hy die ongeregtigheid uit Israel en die res van die aarde verwyder; Hy sal ‘n gees van geregtigheid in Israel en die wêreld se regsisteme gee (v.5-6, 11:2).  Hy sal ook sy kinders versterk om die vyand van die stadspoorte af weg te hou (v.6).  Hy sal m.a.w. sy volk beskerm.

 

Hoe moet ons v.1-6 op onsself toepas?  Soos Samaria is die mens van nature hoogmoedig en dink hy dat God se oordele hom nie sal tref nie (v.1).  Hy dink dat hy die hemel verdien, en dat dit nie dieselfde sal wees sonder hom nie.[1]

 

Jonathan Edwards het gesê:  ‘Byna elke ongelowige wat van die hel hoor, vlei homself dat hy dit sal ontvlug.  Hy maak op homself staat vir sy eie veiligheid.  Hy vlei homself op grond van wat hy gedoen het, wat hy nou doen, en wat hy beplan om te doen.  Hy dink hoe hy God se verdoemenis kan vermy, en vlei homself dat hy ‘n goeie plan uitgedink het, en dat sy planne nie sal misluk nie.  Hy hoor dat min mense gered is, en dat die meeste van hulle gesterf het en hel toe is.  Maar hy verbeel hom dat hy beter as ander mense vir sy ontvlugting beplan het.’[2]

 

Dit gebeur veral met dié wat sê dat hulle God se kinders is, maar dit nie is nie (soos Samaria).  Hulle dink dat hulle doop, kerklidmaatskap, tiendes, getuienis van redding of ouderlingskap hulle teen God se oordele sal beskerm, en dat hulle dus in hulle sonde kan voortleef.  Hulle sit snoesig en veilig in die kerkbanke, en dink dat God se toorn hulle nie daar kan bereik nie (Jer. 7:4, Amos 6:1, Matt. 22:11-13).

 

Hulle glo vas dat hulle ‘n blom in Jesus se tuin is, en dat Hy hulle eendag as ‘n pêrel vir sy kroon gaan kom haal.  Hulle herinner hulleself aan God se liefde, en sê vir hulleself dat Hy nie so sterk oor hulle sonde voel soos oor die moordenaar en verkragter s’n nie.  ‘Eens gered, altyd gered!’ is die skuilplek wat hulle oprig om hulle teen God se toorn te beskerm.  Dit is so dat geen gelowige sy redding kan verloor nie, maar hierdie mense gebruik dit as ‘n lisensie om hulle sonde te doen (v.1, Rom. 6:1).

 

So seker as wat die Here leef, Hy sal hulle onder sy voete vertrap, die trotste kroon van hulle koppe afruk en hulle in die hel gooi (v.3-4).  Hy sal hulle in die vloed van sy oordele verdrink (v.2).  Die hel maak sy mond wyd oop om hulle in te sluk (v.4).  Al wat hulle terughou is die genade van God.

 

As jy jou sonde haat en jou daarvan bekeer het, is jy nie die persoon van wie ek sopas gepraat het nie.  Jy hoef daarom nie vanaand wakker te lê nie.  Die persoon wat ek hierbo beskryf het, gebruik God se genade as ‘n dekmantel om sy sonde te regverdig.  Hy weet dat die Here hom vir sy sonde gaan oordeel, maar doen dit in elk geval omdat hy dink dat hy altyd weer vergifnis kan vra.  Hy besef nie dat sy lewe van sonde besig is om hom hard te maak, sodat hy later nie meer ‘n begeerte sal hê om na die Here toe te draai nie.

 

Hy verdedig sy sonde deur te sê dat hy darem nog kerk toe gaan, die Bybel lees en bid.  Hy dink dat sy ‘goeie stiltetye’ ‘n aanduiding is dat sy dronkenskap of egbreuk nie verkeerd is nie, en dat die Here met hom tevrede is.  Hy is al so ver heen, dat sy gewete hom nie meer pla nie.  Hy is soos Jona wat in die storm slaap, en soos Samaria wat rustig sit en drink terwyl die storm van God se oordeel oor hulle broei.

 

Hy is soos die los vrou in Spr. 7:14 wat gedink het dat haar godsdienstige aksies haar sonde uitbalanseer, en dat die Here dit daarom nie ernstig opneem nie.  Ander mense kan sien dat hy op die verkeerde pad is, maar hy ontken dit.  Soos Israel van ouds raak hy kwaad as God se boodskappers sy sonde uitwys (2Kron. 16:10).

 

Hy lees daarom net die verse oor God se genade en liefde, omdat dit hom lekker laat voel (2Tim. 4:3-4).  Hy het geleer om die dele uit te blok wat oor God se heilige karakter, sy oordele en sy haat vir sonde gaan.  Hy het sy eie goedkoop teologie van genade en van Jesus se kruisdood geformuleer.  In sy oë beteken Jesus se kruisdood dat sy sonde vergewe is, en dat hy daarmee kan aanhou.  Wat God se genade betref dink hy dat dit oneindig is, en dat God se geduld nooit opraak nie.

 

Maar waar het die Here ooit gesê dat sy genade geen perke het nie?  Wys tekste soos Heb. 6:4-6 nie duidelik dat sommige mense die grens van God se genade oorskry, en dat hulle daarna nie weer kan terugkeer nie?  En het Jesus nie self gesê dat daar so iets soos die onvergeeflike sonde is nie?

 

As jy jouself dan ‘n Christen noem en met sonde besig is, moet jy jou ore spits.

 

Jerusalem se feesviering (v.7-13)

Paul Kruger het drank gehaat en net melk gedrink.  En tog het hy geglo dat dit nie sonde is as iemand drank gebruik nie.  ‘Drank is ‘n gawe van God aan die mens, en as dit in matigheid gebruik word is dit nie sonde nie,’ het hy gesê.  Hy het verstaan dat dit verfrissend kan wees na ‘n dag se harde werk.  Wat hy gehaat het was dronkenskap.[3]  En dit is presies die punt in v.7-13.

 

Samaria het hulleself dronk gedrink en onder God se oordeel beland.  En het die leiers van Jerusalem regtig gedink dat húlle daarmee gaan wegkom?  Die priesters en profete moes God se Woord vir die volk bring en vir hulle wys hoe om dit in hulle lewens toe te pas.  Maar hulle kon dit nie doen nie, omdat hulle dronk was (v.7, 5:11, 22).  Hulle was so dronk dat die tafels vol van opgooi was (v.8).

 

Hoekom was hulle dronk?  Hulle het fees gevier, omdat Egipte belowe het om hulle teen Assirië te help (v.15, 30:1-7).  Soos met baie ongelowiges, het hulle die goeie tyding met drank gevier.  Hulle het die wyn ingesluk, maar op die einde het dit hulle ingesluk (v.7).  Die drank het hulle verwar en gemaak dat hulle nie goeie leiding kon neem nie (v.7).  Hulle visioene het nie van die Here af gekom nie, maar die alkohol het gemaak dat hulle snaakse dinge sien (v.7).  Hulle kon nie meer tussen reg en verkeerd onderskei nie; die drank het gemaak dat hulle die reg verdraai en verkeerde dinge sê (v.7).  Dié wat hulle geraadpleeg het kon net sowel ‘n dronk predikant vir berading gevra het, of vir ‘n dronk prokureur gevra het om hulle saak te beveg.

 

Terwyl die geestelike leiers dronk om die tafel gesit het, het Jesaja ingestap.  ‘Vir wie wil jy kennis leer en God se boodskap verduidelik – vir babas wat nog melkies drink?’ het hulle gesê (v.9).  ‘Jy gee mos melk vir die volk, asof hulle kinders is:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie.’ (v.10).

 

Maar Jesaja het juis so gepreek, omdat die volk a.g.v. sulke leiers geestelike babas was, en nie die vleis en aartappels van God se Woord kon verteer nie – hulle het melk nodig gehad.  Hy het dus eenvoudig gepreek, sodat almal dit kon verstaan, en sodat hulle nie ‘n verskoning gehad het vir waarom hulle hulle nie bekeer het nie.  Jesaja het die volle waarheid van God vir die volk gegee; Hy het niks uitgelos of oorgeslaan nie (v.10).  Maar Jerusalem en haar leiers het sy prediking geïgnoreer (2Kron. 36:15-16).

 

Gevolglik sou die Here hulle deur mense van ‘n vreemde taal getugtig het (v.11).  In die Ou Testament was Assirië en Babilon die vreemde nasies deur wie Hy sy volk getugtig het (v.11, Deut. 28:49, Jer. 5:15).  In die Nuwe Testament was ander lande se tale die teken dat die Here sy volk deur die Romeine – ‘n volk wat ‘n ander taal gepraat het – sou tugtig, en dat Hy die evangelie van die Jode af sou wegneem om dit na alle tale toe te versprei (Hand. 2:4-13, 14-23, 36).

 

God het die evangelie by sy volk weggevat, omdat hulle die eenvoudige verkondiging daarvan in hulle eie taal verwerp het (v.9-10).  Hulle wou nie die rus van sy verlossing gehad het nie, maar het dit van die hand gewys (v.12, 30:15, Matt. 11:28-30).  Hulle het eerder in Egipte en hulle eie planne gerus as in die Here (v.12, 15-16).

 

Israel het God se volledige Woord in hulle eie taal verwerp, en daarom het Hy sy oordele in ‘n taal aangekondig wat hulle nie verstaan nie (v.11, 13).  Het Jesus nie in gelykenisse gepreek wat die volk nie verstaan het nie (Matt. 13:10-17)?  Dit is byna of Hy gesê het:  ‘Toe dit verstaanbaar was, wou julle nie luister nie.  Nou sal Ek dit so eenvoudig maak, dat wyse en geleerde mense dit nie kan uitwerk nie, maar dat net geestelike kinders dit kan verstaan’ (Matt. 11:25).

 

Omdat die Jode se geestelike leiers die boodskap nie verstaan het nie, het hulle hulle nie bekeer nie.  En omdat hulle hulle nie bekeer het nie, het hulle in die vyand se vangnet beland en is hulle weggevoer (8:15).

 

So was dit ook in die Nuwe Testament.  Die volk en haar geestelike leiers het die Woord nie verstaan nie.  Gevolglik het hulle hulle nie tot die Messias bekeer nie, maar Hom gekruisig.  In 70 n.C. het die Here hulle hiervoor geoordeel.  Hy het sy Woord vir die Jode weggesteek en dit na die heidene toe gestuur (6:9-10, Amos 8:11, Hand. 28:25-28).  Dit is wat gebeur wanneer mense elke geleentheid in die wêreld het om die Woord eenvoudig te hoor (gesonde kerke, goeie preke op die internet, goeie Christelike boeke, ens.), maar nie daarop ag gee nie.

 

Wat het v.7-13 vir ons te sê?

 

[1] Persoonlik verkies ek dit om glad nie te drink nie.  Ek wil nie aspris iets voor iemand drink as dit hom in die versoeking gaan bring, of as dit sy gewete gaan pla nie (Rom. 14:21, 1Kor. 8:13).

 

En tog sê die Bybel nie dat dit sonde is as iemand ‘n glas wyn of ‘n bier drink nie.  In Deut. 14:26 het die Here vir Israel gesê dat hulle wyn of sterk drank by hulle feeste mag drink.  Ps. 104:15 sê dat wyn ‘n gawe van God is om die mens ontspanne en gelukkig te maak.  In 1Tim. 5:23 het Paulus vir sy jong vriend gesê om nie net water te drink nie maar ook wyn, sodat die alkohol die kieme in sy maag kan doodmaak.

 

Ons weet ook dat Jesus wyn gedrink het (Matt. 11:19).  Party mense dink dat die wyn in Jesus se tyd met water verdun is, en dat daar skaars alkohol in was.  Maar dit was nie altyd die geval nie.  Jesus het bv. die water in wyn verander, en nie die goeie ‘ou’ wyn met water verdun nie.  Ons weet ook dat daar genoeg alkohol in die wyn was om ‘n mens dronk te maak (v.7, 1Kor. 11:21).

 

En dít is juis waar die probleem lê:  ons moenie so baie drink dat ons dronk word nie (v.1, 7-8).  Ongelowiges gebruik elke geleentheid om dronk te word:  restaurante, motorfiets klubs, sosiale geleenthede, sport byeenkomste, partytjies, jaareindfunksies, jag, visvang, Kersfees, ens.  Wanneer ongelowiges rustig en gemaklik voel, drink hulle.  Wanneer hulle bly is, drink hulle.  Wanneer hulle depressief is, drink hulle.  Wanneer hulle bekommerd is, drink hulle.  Wanneer hulle probleme het, drink hulle.  Wanneer hulle verward en verlore voel, drink hulle.

 

Drank is hulle baas, omdat Jesus nie is nie (v.12, 7).  As hulle net na Jesus toe wil kom sal Hy hulle vry maak en die leemte in hulle siele vul (Joh. 4:14, 8:36).  Sy Persoon, kruisdood, opstanding en die Heilige Gees is meer as bekwaam om met hulle drank probleem af te reken.  Jesus kan hulle dors beter les as wat die drank kan, maar hulle glo dit nie, en daarom bly hulle vasgevang in die net van hulle sonde.

 

[2] ‘n Ongelowige wat jare gelede ons dienste bygewoon het, het by ‘n ander gemeente se kerkkamp vir die leraar gevra of sy en haar kêrel ‘n kamer kan deel.  Hy het nee gesê.  ‘Maar ons is mos nie meer kinders nie,’ was die vrou se reaksie.  Soos die vals profete in v.9-10 het sy gemaak of die Bybel se verbod teen seks buite die huwelik kinderagtig is.

 

Mense soek allerhande verskonings om nie dit-en-dat in die Bybel te aanvaar nie.  Soms sê hulle dat dit nie duidelik genoeg is nie.  Ek dink bv. aan God se lering oor homoseksualiteit en seks voor die huwelik.  Mense sê dat dit nie duidelik genoeg is nie, terwyl die waarheid is dat ‘n kind dit kan verstaan (v.9-10).  Maar die rede hoekom dit volgens hulle nie ‘duidelik’ is nie, is omdat hulle nie hulle sonde wil los nie.

 

[3] Ons moet die volle raad van God verkondig:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie (v.10, Hand. 20:27).  Om hierdie rede glo ek dat Skrif verklarende- of eksposerende prediking die beste is (Neh. 8:9).  Jy preek nie net die tekste waarvan jy hou nie, maar ook die dele wat moeilik is om te sluk.  As ‘n mens vers vir vers deur boeke van die Bybel preek, kan niemand sê:  ‘Jy het aspris daardie teks gekies om my aan te spreek’ nie.  Nee, ek het nie.  Ek het net die volgende gedeelte gepreek.

 

Eksposerende prediking gee vir die skape ‘n gesonde, gebalanseerde dieet van die Woord.  God het die Bybel in boeke, verse en hoofstukke geskryf, en daarom moet ons dit ook so preek.  Hy het elke detail daarvan geïnspireer, en daarom moet ons elke detail daarvan preek (2Tim. 3:16-4:2).

 

[4] In 1Kor. 14:21 haal Paulus Jes. 28:11 aan om te wys dat gemeentes wat in tale praat sonder dat dit uitgelê word, onder God se oordeel is (vgl. Gen. 11:1-9, 1Kor. 14:22).  Wees dan versigtig vir charismate wat in tale praat, sonder dat daar ‘n uitleg is.

 

Rowland Hill was ‘n Engelse prediker in die 18de en 19de eeu.  ‘n Dronk man het eenkeer na hom toe gekom en vir hom gesê.  ‘I am one of your converts, Mr. Hill.’  ‘I dare say you are, but you are none of the Lord’s, or you would not be drunk,’ het die wyse mnr. Hill geantwoord.[4]

 

Behoort jy aan die Here?  Moet dan nie soos Samaria en Jerusalem toelaat dat alkohol of enige iets anders jou beheer nie, maar word vervul met die Heilige Gees (Ef. 5:18).

 

[1] R.C. Sproul, The Holiness of God, Tyndale House Publishers, Carol Stream: Illinois, 1985, 1998, p.150

[2] Vry vertaal uit Jonathan Edwards, Works: Vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1834, 1974, 1976, p.8

[3] Martin Meredith, Diamonds, Gold and War, PublicAffairs, New York, 2007, 2008, p.170

[4] Aangehaal in C.H. Spurgeon, The Soul Winner, Whitaker House, New Kensington: PA, 1995, p.32

Advertisements

Wat sal jy hierdie jaar met die Bybel doen?

Bible Study

Mense wat van die platteland af Kempton toe kom, verkyk hulle aan die vliegtuie. Mense wat hier bly vergeet daarvan.  Mense in vervolgde lande sal enigiets gee om ‘n bladsy van die Bybel te hê.  Mense in Suid-Afrika het vyf of meer Bybels op hulle boekrakke, en vergeet maklik daarvan.  Ons is soos iemand wat sy duim verloor het:  jy besef eers hoe kosbaar dit is as jy dit nie meer het nie.  Mag ons nie wag tot dán nie, maar nóú al besef dat die Bybel die kosbaarste skat in die wêreld is.  Mag die manier hoe ons dit deur hierdie jaar en vir die res van ons lewens gebruik, daarvan getuig.

 

Begeer die Woord

Na my mening is John MacArthur een van beste predikers ter wêreld. Sulke soliede en sterk prediking kom natuurlik met harde werk, maar daar is iets anders wat nodig is:  ‘n begeerte na die Woord.  Ek het in ‘n preek gehoor hoe MacArthur vertel dat hy op skool geen begeerte gehad het om te lees nie.  Toe hy die bediening betree, het hy ‘n onversadiglike honger na die Woord en gesonde Bybelse lering ontwikkel.  Van toe af het hy in die Skrif gedelf, omdat hy wou weet wat die Woord beteken.  Dit is wat Esra gedoen het.  Esra 7:10 sê:  “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer.”

 

Vir Esra was die Skrif nie maar net ‘n boek wat deur mense geskryf is nie. Dit was die Woord van God (v.6).  Hy wou dit met sy hele hart ken, gehoorsaam, en onderrig (v.10, Psalm 119:18, 73, 130, 169).  Dit was vir hom belangriker as enige ander boek.  Sy begeerte daarna het hom verteer (Psalm 119:20, 131).  Hy het dit liefgehad met alles in hom, en het daarna gesmag soos ‘n baba na melk, soos ‘n honger persoon na kos (Psalm 119:97, 1 Petrus 2:2, Job 23:12).  Die Woord was vir hom aangenaam soos heuning en kosbaar soos goud (Psalm 119:103, 72, 127).  Voordat Esra die Skrif bestudeer, gedoen, en onderrig het, het hy sy hart daarop gerig en dit begeer (v.10).

 

Begeer die Woord soos Esra. Bid vir ‘n begeerte, maar moenie daarvoor wag voordat jy die Skrif lees nie.  Vind ‘n begeerte daarna terwyl jy dit lees en oordink.  Soos wat jy dit meer lees, bestudeer, oordink, deurbid, gehoorsaam, en verkondig, sal die Heilige Gees soos ‘n wind die vlam in jou hart aanblaas.

 

Sonder ‘n begeerte sal jou Bybelstudie vir jou ‘n roetine en leë oefening wees: jy sal niks daaruit kry nie.  Sonder ‘n begeerte sal jy vir dae, weke, maande, en jare die Skrif versaak.  Hierdie versaking sal in jou lewe sigbaar word soos iemand wat annoreksia het.  Die oplossing vir geestelike annoreksia is maklik.  Begeer die Woord en raak versadig daarmee.

 

Bestudeer die Woord

‘n Goeie vakman ken sy gereedskap. ‘n Goeie skerpskutter ken sy wapen.  ‘n Goeie prediker ken sy swaard, die Bybel.  Esra het.

 

Esra se naam beteken ‘hulp’: hy het gehelp dat die volk geestelik herbou word (Esra 7, Nehemia 8).  Hoe het hy dit gedoen?  Hy was ‘n Skrifgeleerde, vaardig in die Woord (v.6, 10).  Soos Apollos was hy magtig in die Skrifte (Handelinge 18:24).  Hy was nie soos die latere Skrifgeleerdes wat hulle roeping versaak het nie (Maleagi 2:1-9).  Hy was nie soos die Skrifgeleerdes in Jesus se tyd (en baie predikers in ons tyd) wat akademies was, maar nie meer die Skrifte geken het nie (Matteus 22:29).  Deur intense studie en bepeinsing het die Skrif hom deurdrenk en deurweek.  Dit sou hom gedryf het tot gebed, belydenis, lofprysing, danksegging en verdere studie (Psalm 1:2).

 

Bestudeer die Woord soos Esra. Soos Esra, moet die ds. ‘n voorbeeld stel van iemand wat met die Skrif deurdrenk is.  “Practice these things, immerse yourself in them” (1 Timoteus 4:15, ESV).  John Piper sê:  ‘Master this Book and be mastered by it.’  As die prediker alles weet, maar nie sy swaard kan gebruik nie, moet hy nie in die kansel staan nie.  Om die Woord te ken, te doen, en te onderrig is sy hooftaak.  “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.” (1 Timoteus 4:13).  “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timoteus 4:2).  “maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.” (Handelinge 6:4).

 

Met verwysing na predikers haal John MacArthur die volgende paragraaf aan:

 

‘…Give him a Bible and tie him to the pulpit. And make him preach the Word of the living God!  Test him.  Quiz him.  Examine him.  Humiliate him for his ignorance of things divine… When at long last he dares assay the pulpit, ask him if he has a word from God.  If he does not, then dismiss him… Command him not to come back until he’s read and reread, written and rewritten, until he can stand up, worn and forlorn, and say, “Thus saith the Lord.”

 

… Corner him with questions about God. Cover him with demands for celestial wisdom.  And give him no escape until his back’s against the wall of the Word.  And sit down before him and listen to the only word he has left – God’s Word.  Let him be totally ignorant of the down-street gossip, but give him a chapter and order him to walk around it, camp on it, sup with it, and come at last to speak it backward and forward, until all he says about it rings with the truth of eternity.

 

And when he’s burned out by the flaming Word, when he’s consumed at last by the fiery grace blazing through him, and when he’s privileged to translate the truth of God to man, finally transferred from earth to heaven, then bear him away gently and blow a muted trumpet and lay him down softly. Place a two-edged sword in his coffin, and raise the tomb triumphant.  For he was a brave soldier of the Word.  And ere he died, he had become a man of God.’[1]

 

Dit geld nie net vir predikers nie. Hoe kan jy jouself in die studie van die Woord verdiep?  Volg Robert Murray McCheyne se Bybellees-rooster.[2]  Gebruik ‘n pen en papier as jy lees.  Hoekom help dit as jy deur die Bybel lees?

 

[1] As jy só lees, lees jy nie net die Nuwe Testament, Psalms en Spreuke, Ester, Rut, en Ou Testament-Sondagskool lesse nie.

 

[2] As jy só lees kry jy ‘n oorsig van die hele Bybel. Jy volg die konteks.  Lees jy ander boeke so:  ‘n bietjie hier en ‘n bietjie daar?  Hoekom doen ons dit dan met die Bybel?

 

[3] As jy só lees kry jy ‘n gebalanseerde dieet van die Skrif: jy eet nie net cheese grillers nie, maar ook spinasie en pampoen.  Die hele Skrif is immers deur God geïnspireer (2 Timoteus 3:16).

 

[4] As jy só lees kies jy nie net die dele wat soos Prozac is, en jou lekker laat voel nie. Jy lees alles.

 

Vra ook vrae terwyl jy lees.

 

  • Wat leer die verse oor God?
  • Is daar ‘n goeie voorbeeld om te volg?
  • Is daar ‘n slegte voorbeeld om te vermy?
  • Is daar opdrag om te gehoorsaam?
  • Is daar ‘n waarskuwing?
  • Is daar ‘n belofte om te glo?
  • Moet jy oor iets bid?
  • Hoe kan jy die verse gehoorsaam?

Kry dalk ook vir jou ‘n ESV of MacArthur Studie Bybel. As jy die Skrif so lees, sal jy nie vir jare lees en onveranderd bly nie.  God se Gees sal jou verander deur die Woord.

 

Beoefen die Woord

Ek onthou hoe ons huisdokter ‘n klein wit BMW gery het, en dikwels ‘n sigaret in sy mond gehad het. Ek het gewonder hoekom hy ander wil help om gesond te wees, maar nie sy eie gesondheid oppas nie.  Net so moet ‘n Christen self die Boek leef wat hy met ander deel.  Esra het.

 

Voordat Esra die Skrif reg kon toepas en verkondig, moes hy dit verstaan. Hy het nie maar net die Skrif verstaan en daar gestop nie.  Hy het dit toegepas (v.10).  Hy het geweet dat God nie die Skrif gegee het dat ons net meer kan weet nie, maar sodat ons reg kan leef (vgl. 2 Timoteus 3:16, Matteus 28:19).  Hy het veral geweet dat ‘n geestelike leier vir die res ‘n voorbeeld moet wees (Romeine 2:21-22, 1 Timoteus 4:12).

 

Wees soos Esra wat die Woord beoefen het. Dit help nie jy lees deur die Bybel, luister baie preke, lees goeie boeke, woon drie of meer Bybelstudies per week by, memoriseer tekste, ens. as jy dit nie doen nie (Matteus 7:21-27, Jakobus 1:22-25).  ‘n Jong man in Pretoria het ná die erediens vir sy predikant gesê:  ‘Vandag se preek het my lewe verander.’  Die predikant het strak na hom gekyk en gesê:  Nee, dit het nie.  As dit jou lewe verander het sou jy my nie gekomplementeer het nie.  Jy sou jou mede-lidmaat wat beide sy seuns verloor het, vertroos het.’

 

As jy die teks wil toepas moet jy dit diep oordink. Reageer spesifiek.  Moenie net sê jy sal ander meer liefhê nie.  Gee die gesteelde goed terug of ondersteun die weduwee wat finansieel sukkel.  Lees ook die Puriteine as jy spesifieke toepassings soek.  As jy die Woord toepas sal jy geseënd en gelukkig wees (Johannes 13:17).

 

Verkondig die Woord

Mense is snaakse kreature. Party kan nie roomys eet sonder om dit op Facebook te sê nie.  Ander bel dadelik as hulle goeie nuus kry.  Ander kan nie wag om te vertel as hulle iets sleg van iemand anders gehoor het nie.

 

So moet ons met die Woord en die evangelie wees: ons moet vir ander vertel.  Na sy bekering het Charles Spurgeon gesê:  ‘Ek kon verstaan wat John Bunyan bedoel het toe hy gesê het dat hy vir die kraaie op lande van sy bekering wou vertel.  Hy was te vol om dit in te hou; hy het gevoel hy moes vir iemand sê.’[3]  Esra was so.

 

Esra was ‘n priester uit Aäron se nageslag (v.1-5). Die priesters moes onder andere die Skrif verkondig (Maleagi 2:7, Deuteronomium 33:10, 2 Kronieke 17:7). Esra het byna die hele Ou Testament gehad.  Net Maleagi het nog ontbreek.  Hy het dit alles vir die volk geleer (v.10, vgl. 2 Timoteus 3:16).

 

Luister na die verkondiging van die Woord, en deel dit met ander. Wy jouself toe om die Woord te hoor, en moenie net daarna luister as jy lus voel nie (Handelinge 2:42).  Sorg dat jy die ware Woord hoor, en nie mense se opinies nie.  Om dit reg te kry moet jy die preke aan die Skrif toets (Handelinge 17:11).  Sorg dat jy die volle raad van God hoor (Handelinge 20:27).  Wees deel van ‘n gemeente waar die ds. nie moelike verse oorslaan of net sy gunstelinge verse preek nie.  Sorg dat jy uit die ds. se voorbeeldige lewe kan leer, en nie net uit sy prediking nie (v.10, Matteus 23:2-3, 1 Timoteus 4:12, 16).

 

Om die meeste uit die prediking te kry, sal dit help as jy op Saterdae genoeg rus kry. Bid ook voor die diens vir jouself, die gemeente, en die prediker.  Beheer jou gedagtes sodat jy nie dagdroom of slaap nie. Neem notas as dit jou help om beter te konsentreer.  Neem ook ander mense in ag, sodat hulle die Woord kan inneem:

 

  • Sit jou selfoon af.
  • Sit met jou baba in die moederskamer.
  • Moenie onnodiglik opstaan nie. Loop ‘n draai voordat die diens begin.
  • Moenie dat jou kleredrag mans versoek of mense se aandag aftrek nie.
  • Groet vriendelik en moenie nors wees nie.
  • Wees stiptelik. Dit is steurend as mense inloop terwyl die preek besig is.
  • Pasop vir TV en nuus wat jou gedagtes kan besoedel of maak dat jy nie fokus nie.
  • Wees versigtig vir sonde as jy klaar die preek gehoor het.

 

Om nog te leer kan jy in die week goeie preke luister. Laat dit Sondag se prediking aanvul en nie vervang nie!  Deel wat jy gehoor het met jou gesin, ander Christene, en ongelowiges. Waar die ware Woord verkondig word, verander God mense se lewens.  “so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan:  dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” (Jesaja 55:11).  “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.” (Johannes 17:17).

 

Soos jy weet is daar ‘n landswye hitte en droogte. Ons sal seker deur die jaar die effek daarvan voel.  Dit blyk of daar in ons land ook ‘n geestelike droogte is.  Die Bybel praat daarvan in Amos 8:11:  “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor.”

 

In vroeë 1600’s het Thomas Goodwin en John Howe die kragtige prediking van John Rogers onthou. In ‘n preek het Rogers gepraat van hoe Christene hulle Bybels versaak.  Hy het gepraat asof God vir die gemeente sê:  ‘Well, I have trusted you so long with my Bible; you have slighted it; it lies in such and such houses all covered with dust and cobwebs.  You care not to look into it.  Do you use my Bible so?  Well, you shall have my Bible no longer.’

 

Rogers het ‘n Bybel opgetel en gemaak of hy daarmee uitloop. Hy het toe gou omgedraai en gemaak of hy die gemeente is.  Hy het getreur en ernstig gepleit:  ‘Lord, whatsoever thou dost to us, take not thy Bible from us; kill our children, burn our houses, destroy our goods; only spare us thy Bible, only take not away thy Bible.’  Hy het toe weer gepraat asof God vir die gemeente nog ‘n kans gee om te kyk wat hulle met die Bybel sou maak:  sou hulle dit hierdie keer meer waardeer en liefhê?

 

Toe Rogers klaar gepreek het, het die gemeente gehuil. Goodwin het vertel hoe hy na die preek vir 15 minute om sy perd se nek gehang en huil het, voordat hy krag gehad het om op sy perd te klim.[4]

 

Mag niemand van ons se Bybels hierdie jaar so ‘n dik laag stof op hê, dat ons die woord ‘verdoemenis’ daarop kan skryf nie (Spurgeon). Wat sal jy hierdie jaar met die Bybel doen?

[1] How to Preach Biblically, p.286

[2] http://www.esv.org/biblereadingplans

[3] Autobiography: vol.1, p.89

[4] Iain Murray, The Puritan Hope, pp.11-12

Dink reg oor jou dominee

Lazy pastor

Het jy gehoor hoe mense sê onderwysers werk net halfdag, kry ‘n goeie salaris, en het vier vakansies per jaar?  Enige onderwyser en hulle familie weet dis nie waar nie.  Ons dink verkeerd oor hulle.  Dieselfde is dikwels die geval met geestelike leiers in die kerk.  In 1 Korintiërs 4:6-21 leer Paulus ons om reg te dink oor hulle.

Moet hom nie verhef nie (v.6-13)

‘n Kollega en vriend het die grond aanbid waarop ‘n ouer leraar geloop het.  Toe hy hom egter beter leer ken, besef hy dat dié dominee ‘n gewone mens met sonde en foute is.  Ek het onlangs gaan kuier by ‘n dominee met ‘n baie goeie reputasie.  Toe ons die afspraak reël het sy vrou in ‘n sms vir my gesê:  ‘Moenie te veel verwag nie.  Ons het groot kleivoete.’  Die gesegde lui:  ‘The best of men are men at best.’  Dit is Paulus se punt in v.6-7.

Paulus het ‘hierdie dinge’ – die illustrasies van ‘n boer, bouer, dienskneg, en rentmeester – op homself en Apollos toegepas (v.6, 3:6-9, 10-15, 4:1-2).  Dit het hy gedoen, sodat die Korintiërs hom en Apollos nie sou ophemel nie.  Hulle moes nie verder dink as wat die Skrif (die Ou Testament aanhalings in hfst.1-3) toelaat nie:  “dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie” (v.6).  Hulle moes nie in menslike wysheid roem en sê:  ‘Ek is van Paulus,’ en ‘Ek is van Apollos’ nie (1:12, 3:4).  Paulus noem hulle selfs ‘broers’ (v.6) om te wys dat hulle sy gelykes is, en hom daarom nie moet verhef nie.  Alles wat ons het kom van God af, en daarom moet niemand in ‘n leier roem asof sý groep beter is as iemand anders s’n nie (v.7, Johannes 3:27).

Moenie jou geestelike leiers verhef nie.  Vergeet van die illusie dat hulle super heilig is en min sondig.  ‘n Paar vroue se woorde het by die dominee se vrou uitgekom:  ‘Ek wonder hoe dit moet wees om met háár man getroud te wees?’  Hy het daarvan gehoor en gesê:  ‘As hulle maar net geweet het watse groot sondaar ek is.’  Moenie die dominee aanbid nie; aanbid die Jesus wat hy verkondig.  Jesus het gewaarsku:

“Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester:  Christus, en julle is almal broeders.  En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.  Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester:  Christus.  Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.  Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.” (Matteus 23:8-12).

Hoekom moet jy hom nie verhef nie?  As jy hom verhef sal jy na hóm kyk vir dit wat net Jesus kan gee.  Jy sal belangstelling in die kerk verloor as hy in sonde val.  Dit sal vir jou moeilik wees om ‘n nuwe dominee te aanvaar.  Jy sal ook te veel van hom verwag, en sodoende druk op sy kinders sit om perfek te wees.

Toe my dogter klein was het sy vir my gevra:  ‘Pa, besluit die president wat jy gaan word as jy eendag groot is?’  ‘Nee,’ het ek geantwoord, ‘jy besluit self.’  My seun het dit gehoor en gesê:  ‘Het pa self besluit om niks te wees?’  Hy het groter waarheid gepraat as wat hy besef het, want ‘n geestelike leier is niks.  Dit is Paulus se boodskap in v.8-13.  Jesus het mos gesê:

“Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.  En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Matteus 20:25-28).

Paulus gebruik sarkasme in v.8:  “Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers.  Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!”  Die Korintiërs móés honger en dors gewees het vir geregtigheid (Matteus 5:6), maar was versadig.  Hulle móés besef het dat hulle arm is sonder Jesus (Openbaring 3:17-18), maar het geroem asof hulle ryk is.  Paulus het gewens dat Jesus weer sou kom, sodat hulle reeds almal saam kon heers as konings (v.8, Openbaring 5:10).

Maar die teendeel was op dié tydstip waar:  God het die apostels vertoon as ‘n skouspel vir mense en engele (1 Timoteus 5:21); soos gladiators wat voor almal in die teater die doodstraf gekry het (v.9, Romeine 8:36, Hebreërs 10:33).  Vir Jesus se onthalwe het mense die apostels beskou as dwaas, swak en oneerbaar (v.10, 1:18, 2:3, Handelinge 26:24, 2 Korintiërs 11:29, 13:9).  Paulus het tong-in-die-kies gesê dat die Korintiërs wys, sterk, en eerbaar was (v.10).

Die apostels was honger, dors, het ou klere gedra, is geslaan, was haweloos, en moes soos slawe met hulle eie hande werk – iets wat die Grieke verag het (v.11-12, 2 Korintiërs 11:23-27, Matteus 8:20, Handelinge 18:3, 1 Tessalonisense 2:9, 2 Tessalonisense 3:8).  Verder het hulle ook hulle haters geseën , vasgebyt in vervolging, en dié wat hulle gelaster het met mooi woorde probeer wen (v.12-13, 1 Petrus 3:9).  Hulle is beskou as die afskraapsel van die samelewing, as vullis (v.13).  “U het ons ‘n uitvaagsel en ‘n wegwerpsel onder die volke gemaak.” (Klaagliedere 3:45).

Moenie jou dominee se werk verhef nie.  Sommige dink:  ‘Hy kry ‘n gratis huis en werk net twee ure per week.’  ‘n Meisie in Nelspruit het vir my gevra:  ‘Wat dóén jy heel week?’  Ander dink dit moet lekker wees om ‘n titel te hê.  ‘n Man wat afgestudeer het, het vir die sekretaresse gesê:  ‘Ek is nie mnr. so-en-so nie, maar ds. so-en-so!’  Party wens dat hulle foto opgeblaas kan word en op die kerk se muur kan hang.  Party dink die dominee is sy eie baas of is die baas van die kerk.  Ander dink hy kry die offergawe.  Ander sê weer:  ‘Dit moet lekker wees om heeldag by mense te kuier; om koekies te eet en tee te drink.’

Sekerlik misbruik sommige geestelike leiers hulle posisie en ís hierdie dinge so.  Maar as ‘n leraar getrou is, behoort hierdie dinge nie so te wees nie.  Die waarheid is eerder dat die prediker soms soos Jeremia, Paulus en Timoteus wil opgee (Jeremia 20:9, Handelinge 18:9-10, 1 Timoteus 1:3, 2 Timoteus 1:6-8).  Hy dra ‘n swaar las as mense in die gemeente ly, sondig, vals lering glo, stadig groei, of wegbly van die kerk af.  Hy voel soos Paulus in 2 Korintiërs 11:28-29 en Galasiërs 4:19:

“Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes.  Wie is swak en ek is nie swak nie?  Aan wie word ‘n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie?… my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry.”

Dis vir hom baie harde werk om gereeld en getrou vir elkeen in die gemeente te bid (Kolossense 4:12).  Hy moet dié wat hom slegsê seën, want die wêreld hou hom dop.  Baie mense respekteer nie sy gesin of sy tyd met hulle nie.  Hulle verwag dat hy altyd op bystand moet wees – sy gesin kan maar wag.

Mense wat die dominee se werk verhef moedig te maklik hulle kinders en kleinkinders aan om predikante te word, want ‘dis mos ‘n romantiese, eerbare, en goeie werk.’

Moet hom nie vergeet nie (v.14-21)

Dirk is ‘n skatryk sakeman.  Hy het besluit om ‘n baba seuntjie aan te neem.  Hy het vir dié seuntjie ‘n huis, goeie opvoeding, skoling, sekuriteit, en liefde gegee.  Hy het met hom gespeel en saam vakansie gaan hou.  Die seun het groot geword.  Dirk het vir hom alles geleer oor besigheid.  Uiteindelik het hy Dirk se besigheid oorgeneem.  Toe Dirk oud word, het hy op ‘n siekbed gelê in die oue tehuis.  Maar sy seun was te besig om geld te maak, en het nie tyd gehad om by hom te kuier nie.  Hy het vergeet van die een wat goed was vir hom.  Dit is waarteen Paulus waarsku in v.14-21.

Sy doel in v.8-13 was nie om die Korintiërs skaam te maak nie (v.14).  Hy het wel later in die brief probeer om hulle te beskaam (6:5), maar hiér was dit nie sy doel nie.  Hy wou hulle eenvoudig as sy liewe kinders vermaan (v.14, 1 Tessalonisense 2:11).  In Christus het hy hulle geestelik pa geword deur die evangelie (v.15, Galasiers 4:19, Filemon 10).  Hulle het onder sý prediking tot bekering gekom.  Net soos ‘n kind sy pa na-aap, wou Paulus hê dat hulle sý nederige denke oor geestelike leiers moes na-aap:  “Ek vermaan julle dan, word my navolgers.” (v.16).  ‘n Leier wat waarlik deur die Here geroep is moet ook vir mense kan sê om sy voorbeeld na te volg.

  • “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (11:1).
  • “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.” (Filippense 3:17).
  • “En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.” (Filippense 4:9).
  • “En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees” (1 Tessalonisense 1:6).
  • “Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg.” (2 Tessalonisense 3:9).
  • “Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.” (1 Timoteus 4:12).

Paulus het selfs sy geestelike kind Timoteus gestuur, sodat hulle sy voorbeeld in Timoteus kon sien (v.17, 16:10, 1 Timoteus 1:2).  In hom sou hulle Paulus se prediking in lewende lywe sien, want wat hy gepreek het het hy ook geleef (v.17).  Dit was nie dat hy net van die Korintiërs verwag het om nederig en heilig te wees nie; hy het dit in ál die kerke gepreek en dit van hulle verwag (v.17, 7:17, 14:33).

Paulus het beplan om binnekort self na hulle toe te gaan (v.18-19, 11:34, 16:5-9).  Hy het hom nie veel gesteur aan die woorde van dié wat gedink het hulle is wys nie.  As hy by hulle was sou hy gou agterkom of dié mense regtig so ‘wys’ is.  ‘n Mens leef immers nie heilig omdat hy ‘n groot mond het nie, maar omdat God se krag in hom werk (v.19-20, 2:4).  Indien die Korintiërs berou gehad het oor hulle sonde, sou hy hulle met sagte woorde bemoedig.  Maar as hulle in hulle sonde volhard het, sou hy hulle met ‘n roede slaan soos ‘n pa sy stoute seun tugtig (v.21, hfst.5, 2 Korintiërs 13:2, 10).

Moenie jou geestelike leiers vergeet nie.  Soms dink mense die ouderlinge help ander geestelik en het self nie geestelike hulp nodig nie.  ‘n Vriend en kollega het onlang getuig hoe baie dit vir hom beteken het toe ‘n lidmaat ‘sy dominee’ kom besoek het.  Bid ook asseblief vir jou leiers; hulle het dit nodig (1 Tessalonisense 5:25).  Volg jou leiers se voorbeeld in soverre hulle lewens met die Skrif ooreenkom en hulle Jesus navolg.  Dit is baie dikwels so dat jy meer leer deur wat hulle doen as deur wat hulle sê:  ‘It is more caught than taught.’  Ek kan daarvan getuig.  Ek het baie meer uit my leraar se lewe geleer as uit sy prediking.

Ons moet hulle voorbeeld onthou en navolg selfs nadat hulle dood is.  Dis die boodskap in Hebreërs 13:7:  “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.”  Dit sou nie nodig gewees het om hulle te gedenk as hulle nog gelewe het nie.  Ek kan verseker dinge uit wyle Martin Holdt se lewe onthou wat die moeite werd is om na te volg.

Wees versigtig dat jy nie ‘n leraar se lewe navolg as hy reg preek, maar self nie lewe wat hy verkondig nie:  “Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.” (Matteus 23:3).

Hoekom moet jy jou geestelike leiers nie vergeet?  Want dit is makliker om ‘n tasbare en sigbare voorbeeld na te volg as ‘n abstrakte een wat net bestaan uit ‘n klomp idees.

Oor die Paasnaweek was ek by ‘n Baptiste konferensie in Cornelia in die Vrystaat.  Tydens die kamp het twee mans die graf van die stigter van die ABK (J.D. Odendaal) gaan soek.  Hulle het dit gekry en ander genooi om die volgende dag daarna te gaan kyk.  Sy graf, sowel as sy 4 vroue s’n is met ‘n klipmuur omhein (hy was nie gelyk met al 4 getroud nie, maar het weer getrou na elkeen van sy vroue oorlede is).  Die grafte is toegegroei met bosse en takke.  Sy verlate graf is byna ‘n klein gelykenis van hoe ons dikwels ons geestelike leiers vergeet.  Die Bybel sê ons moet hulle nie verhef.  Maar dit sê ook ons moet hulle nie vergeet nie.

Wat dink God van jou dominee se preke?

Steve Lawson

Liezel is die populêre nuwe graad 2 juffrou by die plaaslike laerskool.  Die kinders is mal oor haar en sê sy is die beste.  Sy geniet die aandag, maar weet dat die inspekteur binnekort haar werk gaan evalueer.  Aan die einde van die dag is dit sý evaluasie wat tel.  Net so mag mense van hulle dominee se preke hou, maar uiteindelik is God se evaluasie al wat saakmaak.  Paulus skryf:  “so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef.” (1 Tessalonisense 2:4).  In 1 Korintiërs 2:1-5 sien ons God se evaluasie van goeie prediking.

 

Die inhoud van Paulus se boodskap (v.1-2)

Charles Spurgeon staan bekend as die Prins van Predikers.  Soos Paulus s’n, was Spurgeon se boodskappe Christo-sentries, kragtig, en eenvoudig.  Baie het hom gespot en gesê sy styl is platvloers en hoort in die sirkus of teater.[1]  Jare gelede het ‘n ou man vir my gesê:  ‘Grieks en Hebreeus was nie deel van my predikant se opleiding nie, en daarom kan ek nie na hom luister nie.’  Om die oorspronklike tale te leer is goed, maar ‘n preek moet die aandag op Jesus vestig en nie op die prediker se geleerdheid of elegante styl nie.

 

Paulus spreek sy lesers aan as ‘broers’ (v.1).  Hy doen dit om te wys dat hy nie bo hulle staan nie, maar langs hulle (1:12).  Toe hy in hulle stad was, het hy nie die getuienis aangaande Jesus se kruisdood en opstanding met groot woorde of wêreldse wysheid verkondig nie (v.1, 1:17).  Paulus wou nie hê mense moet sy styl bewonder nie.  Daarom het hy besluit om op die inhoud te fokus:  “Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (v.2, vgl. 1:23, Galasiërs 6:14).  Wat beteken dit?

 

Die naam Jesus wys dat Hy die Verlosser is.  In Matteus 1:21 sê die engel vir Josef:  “en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”  Christus beteken ‘gesalfde’ (Handelinge 10:38, Matteus 3:16).  Jesus is die gesalfde Priester, Profeet en Koning.  As Priester het Hy die offer gebring vir ons sondes en tree Hy ook vir ons in.  As Profeet openbaar Hy God se wil aan ons.  As Koning oorwin Hy ons vyande en regeer Hy oor die wêreld.  Paulus noem Jesus ‘die gekruisigde’.  Die Griekse perfektum dui aan dat Jesus eens en vir altyd gekruisig is:  die prys is betaal; Hy het ons sondes weggeneem.  In 15:3 sê Paulus “dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte”.  Jesaja 53:5 sê:  “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

 

Jy kan nie die gekruisigde Christus verkondig en in die kollig wil wees nie.

 

Leer om die preke wat jy hoor reg te evalueer.  Is Christus die middelpunt van die preke wat jy hoor (v.2)?  Preek jou dominee die Woord (2 Timoteus 4:2)?  Moenie te vinnig ja sê nie.  Maak jou Bybel oop en kyk of dit wat hy sê uit die Bybel uit kom (Handelinge 17:11).  Sien jy dit in die teks?  Meet sy preke aan hulle inhoud en nie aan die prediker se styl nie.

 

  • Moenie ‘n preek vir soetkoek opeet, omdat die dominee ‘n teologiese graad het nie. Maar moet ook nie dink dat ‘n prediker meer geestelik is, omdat hy geen formele opleiding het nie.
  • ‘n Lang preek is nie beter voorberei as ‘n kort preek nie, en ‘n kort preek is nie beter net omdat dit kort is nie.
  • Moenie dink ‘n preek is outomaties goed as die prediker ‘n slim tema het nie.
  • Pasop dat jy nie preke evalueer volgens jou gunsteling onderwerpe nie: ‘Die preek was goed; die dominee het gepreek oor die eindtyd.’
  • ‘n Preek is nie goed omdat dit snaaks was of baie stories in gehad het nie.
  • Party dink dat elke preek ‘n bekerings- of hel-en-verdoemenis boodskap moet wees – anders was dit nie goed nie.
  • Ander dink ‘n goeie preek volg die kalender: ‘n preek oor ma’s op moedersdag, oor pa’s op vadersdag, oor liefde op Valentynsdag, oor die Reformasie op Hervormingsdag.
  • ‘n Goeie preek moenie aan die koerant gemeet word, sodat jy dink: ‘Die dominee is relevant’ nie.
  • Baie mense dink iemand is ‘n ‘teacher’ omdat hy Joodse agtergrond ken wat nie in die Bybel staan nie.
  • Moenie dink ‘n preek is goed, omdat die prediker geleerde mense in sy preke aanhaal nie.
  • Dalk dink jy ‘n prediker is sleg, omdat hy nie preek soos hulle in die ou dae gepreek het nie.
  • Het jy ‘n gunsteling prediker? Pasop om nie te dink ‘n preek is goed of sleg, omdat dit soos jou gunsteling prediker s’n klink of nie.
  • Baie mense dink ‘n interessante preek met kleurvolle Power Point skyfies maak dat dit goed is.
  • Vir sommige mense is ‘n preek goed as die dominee iets nuut gesê het; iets wat hulle nog nooit voorheen gehoor het nie.

 

Net soos God wil hê die prediker moet die Skrif alleen preek, wil Hy hê jy moet die Skrif alleen hoor.  Die prediker moet hard werk om die Woord reg te preek (2 Timoteus 2:15).  As hoorder moet jy sorg dat jy nie jou ore uitleen vir boodskappe wat nie direk uit die Skrif uit kom nie (2 Timoteus 4:3-4).  Mense wat nie tussen goeie en slegte preke onderskei nie, beskadig nie net hulleself nie.  Kerke word swakker.  Wolwe sluip in.  En die mense in die bank kom dit nie eers agter nie.  Die volgende geslag sal daaronder ly.

 

Die krag van Paulus se boodskap (v.3-5)

Aan die einde van 2009 het ‘n man uit die Evangelies Gereformeerdekerk ons gemeente besoek.  Hy was besig met navorsing.  Hy wou uitvind hoekom daar nie meer bekerings in kerke plaasvind nie.  Sy vermoede was dat daar nie meer Geesvervulde prediking is nie.  Hy was reg.  Paulus bevestig dit (v.3-5).

 

Paulus se 18 maande in Korinte was “in swakheid en in vrees en in veel bewing” (v.3).  In Handelinge 16 het die Romeine hom geslaan en in die tronk gesit.  In Handelinge 17 wou die Jode hom aanval.  In Atene het mense gesê sy boodskap is belaglik.  Toe hy in Korinte kom het die Jode hom teëgegaan.  Hy wou opgee, maar Jesus het hom bemoedig (Handelinge 18:6, 12, 9-10).  Paulus se vrees en bewing was nie ‘n vrees vir mense nie.  Hy het God gevrees.  Hy sou saam met John Knox kon sê:  ‘Ek is nie bang vir die duiwel nie, maar vrees elke keer as ek in die kansel instap.’

 

Die Korintiërs kon nie die inhoud en styl van Paulus se preke met die Griekse filosofie van hulle dag vergelyk nie:  “my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (v.4).  In 1:17 sê Paulus:  “Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.”  Volgens 2 Korintiërs 10:10, 11:6 het Paulus ‘n swak voorkoms gehad en was sy styl nie baie elegant nie.  God het Paulus se swakheid as ‘n geleentheid gesien om sy Sý krag ten toon te stel:  “En Hy het vir my gesê:  My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.  Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2 Korintiërs 12:9).  Vir Paulus is dit die krag van die Gees[2] wat saakgemaak het.  In ‘n parallele teks lees ons:  “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid” (1 Tessalonisense 1:5).

 

Waar die Gees in krag werk rus mense se geloof op God se krag om harte te verander, en nie op die kragtelose wysheid van mense nie (v.4-5).  Die Gees se krag om mense te verander lê nie in die wysheid van mense nie, maar in die boodskap van die kruis.  “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.” (Sagaria 4:6).  “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.” (2 Korintiërs 4:7).  As ons geloof op menslike wysheid rus, sal dit wankel sodra iemand ‘n beter redenasie het.  Maar as dit op die krag van God rus, sal dit nooit wankel nie (v.5).

 

Soek dan kragtige prediking.  Moet asseblief nie dink kragtige prediking is as iemand met ‘n charismatiese persoonlikheid heen en weer loop of skreeu nie.  ‘n Kragtige prediker is nie iemand wat sy gehoor met die nuutse sielkundige oplossings en motiverende toesprake betower of aanspoor nie.  Wees ook versigtig dat jy dit nie verwar met passie, erns, treffende toepassings, akkurate eksegese, soliede teologie, of glashelder illustrasies nie.  Dié dinge is belangrik, maar sonder die Gees is dit nie kragtige prediking nie.  Jy kan ‘n lyk mooi aantrek en grimmeer, maar net die Heilige Gees kan mense wat geestelik dood is opwek (Esegiël 37).

 

[1] As ons kragtige prediking wil hoor, moet die prediker en hoorders hulle sonde bely en laat staan.  Sonde bedroef die Heilige Gees (Efesiërs 4:30).

 

[2] Bid:  “hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:13).  Hou aan bid as God nie dadelik antwoord nie.  Sê soos Jakob:  “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.” (Genesis 32:26).

 

[3] Jy kan nie die Heilige Gees manupileer of dwing om te kom, omdat jy jou sonde bely en gebid het nie.  Die Gees is soewerein:  “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Johannes 3:8).

 

As jy nie kragtige prediking najaag nie, sal jy jou geloof op menslike wysheid bou (v.5).  Sonder Geesvervulde prediking sal ongelowiges nie gered word, en gelowiges nie verander nie (v.4-5).  In 6:11 is dit die Gees wat sondaars verander.  Volgens 2 Korintiërs 3:16-17 is dit die Gees wat ons bevry en ons blinde oë oopmaak.  As iemand nie uit die Gees gebore is nie, kan hy nie die Koninkryk van God sien nie (Johannes 3:5).  Die Gees oortuig die wêreld van sonde, geregtigheid, en oordeel (Johannes 16:8).  Die Gees maak ons harte oop om die Woord van God te verstaan (Handelinge 16:14).  Die Gees vul ons met liefde, sagmoedigheid, goedheid, vrede, selfbeheersing, ensovoorts (Galasiërs 5:22).  Die Gees help ons om die liefde van Christus te verstaan (Efesiërs 3:16-19).

 

Stuart Olyott is ‘n Walliese prediker.  As jong predikant het hy na Cosheston Mission Church gegaan om vir Hywel Griffiths te hoor preek.  Só beskryf hy wat hy daar gehoor het:

 

‘The preacher’s sermons were quite lengthy, filled with word-pictures and delivered with obvious love and deep emotion.  But there was something else.  They were accompanied by an indefinable influence.  As Hywel Griffiths preached, heaven came to earth.  The invisible world was more real than the visible one.  There was a touch of glory.  Christ was more precious than anything or anyone in the universe.  The Word came over with a self-authenticating force that was irresistible.  Not to believe was not an option, because it was indescribably foolish.  The only wise thing to do was to trust the Lord completely, and to love Him with all of my heart, soul, mind and strength.  I was not alone in receiving these impressions.  After each sermon the congregation sat in stunned silence, overcome by the sheer power of the Word.  Sometimes the silence was followed by spontaneous prayer.  Some came to Christ.  Many others like me, who were already believers, were changed for ever.’

 

Die meeste van ons het nog nooit sulke prediking gehoor nie.  Sommige het.  As jy dit eers gesmaak het sal jy dit weer wil hê.  Mag dit die Here behaag om dit vir ons te gee:  Christo-sentriese, Geesvervulde prediking.

[1] Arnold Dallimore, Spurgeon: A New Biography, pp.64-66

[2] Die Gees in v.4 verwys na die Heilige Gees en moet met ‘n hoofletter geskryf word.

Twee toetse om te sien of jy Jesus liefhet

Shepherd and flock

Toe ek in die laerskool was het ons ‘n formule gebruik om te sien hoe baie ‘n seun en dogter van mekaar hou.  Ek sou byvoorbeeld skryf:  ‘Ivor true loves Deirdrè.’  Ek sou dan die formule uitwerk en in ekstase wees as dit op 98% uitkom.  As ek ‘n lae telling gehad het sou ek ons vanne by sit.  Soos baie ander kinders het ek geglo dis waar.

 

Die Bybel gebruik nie lawwe toetse om te sien of iemand Jesus liefhet nie.  In Johannes 21:15-19 gee God vir ons twee betroubare toetse om te sien of ons Hom liefhet.

 

Jou gehoorsaamheid (v.15-17)

Verlede jaar moes my oudste dogter ‘n gedig voorberei vir die kunswedstryd.  Die gedig het so geklink:

 

My ma kan ‘n pyn wees, dit moet jy weet.

Soms wens ek sy wil my naam vergeet!

As ek net ‘n bietjie op die rekenaar speel,

kla sy na uur:  ‘Dis heeltemal te veel!’

Sy sê dat ek met my gevroetel daar

haar rekenaar se brein weer heeltemal verwar.

Is julle ma’s ook so erg oor eet?

Die hemel weet, daar’s altyd kos gereed!

Tog moet ek sê, ek erken, nou ja:

Ek is regtig egtig baie lief vir my ma.

Want sonder haar, dis nou maar waar,

is my magie leeg en kom ek glad nie klaar.

 

Is dit waar dat hierdie kind sy of haar ma liefhet?  Hoekom nie?

 

Nadat die ontbyt op die strand (v.12-13) het Jesus met Petrus gepraat.  Jesus noem hom Simon, seun van Jona.  Jesus gebruik sy ou naam, om te wys dat hy soos die ou Petrus opgetree het (v.15, 1:42).  Johannes noem hom Simon Petrus om hom van Simon die Seloot te onderskei (v.15, Markus 3:18).  Petrus het by ‘n vuur gesit toe hy drie keer die Here verloën het (18:18, 13:38).  Nou sit hy weer by ‘n vuur waar Jesus hom drie keer vra of hy Hom liefhet (v.15-17, 9).  Toe Jesus gesê het dat die dissipels hom sou verloën, het Petrus geroem dat hy nie soos die ander was nie; dat hy Jesus meer liefgehad het:  “Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie… Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie!” (Markus 14:29, 31).  Jesus sê nou in effek:  ‘Jy het met drie keer verloën.  Dink jy nogsteeds dat jy my meer liefhet as die res?  Is Ek jou eerste liefde?’ (sien v.15, Openbaring 2:4).

 

Die Griekse teks sê letterlik:

 

Vers 15:  Het jy my lief (agapao)?… Ja, Here, U weet dat ek U liefhet (phileo).

Vers 16:  Het jy my lief (agapao)?… Ja, Here, U weet dat ek U liefhet (phileo).

Vers 17:  Het jy my lief (phileo)?… Ja, Here, U weet dat ek U liefhet (phileo).

 

Volgens sommige kommentators is agapao ‘n sterker liefde as phileo.  Volgens hulle vra Jesus of Petrus ‘n diep liefde vir Hom het.  Petrus sê dan dat hy ‘n sterk gevoel vir Jesus het.  Uiteindelik is Jesus tevrede dat Petrus se liefde net ‘n warm gevoel is.

 

Dit lyk egter nie of dit is wat die verse beteken nie.  In 2 Timoteus 4:10 kry Demas die wêreld lief (agapao) en in Johannes 5:20 het die Vader die Seun lief (phileo).  Dit is nie altyd waar dat agapao sterker is as phileo nie.  Vir Petrus was agapao en phileo dieselfde.  Hoe weet ons dit?  Toe Jesus gevra het of Petrus hom liefhet (agapao), het hy nie gesê:  ‘Nee, ek het U nie so lief (agapao) nie, maar het net ‘n warm gevoel van liefde (phileo).’ Sy antwoord op Jesus se vraag was:  ‘Ja…’

 

Petrus het drie keer gesê:  ‘Here, U weet dat ek U liefhet.’ (v.15-17).  Die laaste keer het hy gesê:  ‘Here, U weet alles.’ (v.17).  Sy belydenis dat Jesus alles weet was ‘n belydenis dat Jesus God is.  Jesus het die harte van alle mense geken (2:25).  In 16:30 het die dissipels bely dat Hy alles weet.  Volgens 18:4 het Jesus alles geweet wat oor Hom sou kom.  In 1:48-49 het hy geweet dat Nataniël ‘n opregte man is, en dat hy onder die vyeboom gesit het.  In 4:18 het hy geweet dat die Samaritaanse vrou vyf mans gehad het en tans saam met ‘n man bly.  In 6:64 het hy geweet wie in Hom glo en wie Hom sou verraai.  In Markus 2:8 het Jesus geweet wat die Fariseërs dink.  Die Grieks dui aan dat Jesus alles van Petrus geweet het; dat dit nie nodig was dat Hy iets oor hom moes leer nie.[1]  Hy het Petrus intiem geken.[2]

 

Om te bewys dat hy Jesus liefhet, sê Jesus drie keer dat Petrus sy lammers en skape moet oppas en voed (v.15-17).  Die lammers verwys dalk na kinders, nuwe bekeerlinge, of swak gelowiges (Jesaja 40:11).  In hfst.10 het Jesus gesê Hy is die Goeie Herder wat die skape versorg en sy lewe vir hulle aflê (Psalm 23, Matteus 2:6, Openbaring 7:17).  Petrus en alle ouderlinge is onder-herders wat die kudde oppas, voed en versorg (1 Petrus 5:1-2, Handelinge 20:28).

 

Ouderlinge moet Jesus se opdrag ter harte neem en dit uitvoer.  Moenie te gou wil preek nie.  Wees eers gehoorsaam voor jy vir ander sê om gehoorsaam te wees.  Dit is hoe Esra en Timoteus dit gedoen het:  “For Ezra had set his heart to study the Law of the LORD, and to do it and to teach his statutes and rules in Israel.” (Esra 7:10, ESV).  “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.” (1 Timoteus 4:16).

 

Moenie vir ander preek maar dan self in geheime sonde lewe, en so die Naam van die Here belaster nie (Romeine 2:21-24).  Moenie net die Bybel bestudeer om preke voor te berei of teologiese studies te doen, terwyl jy jou eie siel, vrou, en kinders afskeep nie.  Sorg vir jou eie siel; veg vir jou persoonlike stiltetyd:  “Gee dan ag op julleself” (Handelinge 20:28).  Voed jou vrou.  Moenie net vir haar kos op die tafel sit nie, maar sorg vir haar siel (Efesiërs 5:29).  Leer vir jou kinders die Bybel (Deuteronomium 6:7).  Moenie ‘n Marta wees wat altyd besig is om die Here te dien nie.  Wees eers ‘n Maria wat by sy voete sit (Lukas 10:38-42).

 

Wees lief vir Jesus.  Bewys dit deur sy kudde met die sappige soet gras van die Woord te voed (v.15-17).  In Jeremia 3:15 sê die Here:  “En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand.”  Daar is baie dinge wat jou sal versoek en ontmoedig, sodat jy nie die Here se skape voed nie:  administrasie, mense, gemak, geld, lyding, of geen vrug op jou arbeid nie.  Bly by jou hooftaak:  voed die skape (v.15-17).  Preek die Woord, moenie jou fokus verloor nie, gebruik jou gawe (2 Timoteus 4:2, 1:7, 2:4).  Gee jouself aan gebed en die bediening van die Woord (Handelinge 6:4).  Moenie jou gawe verwaarloos nie (1 Timoteus 4:14).  Doen jou bes om die Bybel beter te ken en beter te preek.  Bestudeer jou Bybel, lees goeie boeke, woon konferensies by, praat met ander predikers.  “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering… Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” (1 Timoteus 4:13, 15).

 

Lidmate moet hulle leraars bemoedig.  Help hulle om die las te dra, sodat hulle vry kan wees om die skape te voed.  As jy die Here liefhet, sal jy Hom gehoorsaam (Johannes 14:15).

 

Jou dood (v.18-19)

In 1991 het Bryan Adams die tema lied gesing vir Robin Hood: Prince of Thieves.  ‘n Paar reëls uit die lied sê:

 

…Take me as I am, take my life.

I would give it all, I would sacrifice.

Don’t tell me it’s not worth fightin’ for

I can’t help it, there’s nothin’ I want more

You know it’s true:

Everything I do, I do it for you, oh, yeah…

…I would fight for you, I’d lie for you,

Walk the wire for you, yeah, I’d die for you…

 

Baie mans sê so, en net soveel vroue wil dit hoor.  Tog is dit nie lank voordat hulle baklei, mekaar afskeep, egbreuk pleeg, en skei nie.  Dis maklik om te sê jy is lief vir Jesus en sal jou lewe vir Hom aflê.  Petrus het:  “Ek sal my lewe vir U gee.” (13:37).  “Baie mense roem hulle eie welwillendheid, maar wie vind ‘n betroubare man?” (Spreuke 20:6).  Petrus het Jesus drie keer verloën.  Net deur die Here se genade en ‘n sterk liefde vir Jesus sou hy ‘n marteldood kon sterf.

 

Vers 18 begin met ‘voorwaar, voorwaar’.  Die Grieks is ‘amen, amen’.  Ons sê ‘amen’[3] as ons klaar gebid het.  Jesus sê dit vóór Hy praat en wys so dat sy woorde absoluut seker is.  Toe Petrus jonk was het hy sy eie gordel vasgemaak en gegaan waar hy wou (v.18, 7).  Wanneer hy oud is sal hy nie sy eie besluite neem nie.  Ander sal hom vasbind en na ‘n kruis toe lei waar hy sy hande sal uitstrek (v.18).  Volgens oorlewering het Petrus só gesterf het:

 

Toe Nero vir Petrus wou doodmaak, het hy uit Rome gevlug.  Jesus het langs die pad aan hom verskyn.  Petrus het gevra:  ‘Waarheen gaan U?’  Jesus het gesê:  ‘Ek gaan om weer gekruisig te word.’  Petrus het teruggedraai en is onderstebo gekruisig.  Hy het gesê dat hy nie waardig was om gekruisig te word soos sy Here nie.[4]  So het Petrus die Here in sy dood verheerlik (v.19).

 

Dit lyk of Petrus in v.3 die bediening wou los en weer sy vissersbesigheid wou opneem.  Nou het Jesus vir hom gesê om die kudde te versorg; om Hom te volg (v.15-17, 19).  ‘Volg my’ (v.19) impliseer dat Petrus soos Jesus aan ‘n kruis sou sterf (vgl. Lukas 9:23).  Die feit dat Petrus bereid was om vir Jesus te sterf, het bewys dat hy Hom liefhet.

 

Wees lief vir Jesus in lewe en dood.  In Suid-Afrika sal jy waarskynlik nie jou lewe gee of ‘ten bloede toe weerstand bied nie’ (Hebreërs 12:4).  Maar dit mag kom.  Jy moet bereid wees om vir Jesus te sterf.  Is jy bang?  Jy hoef nie bang te wees as jy Hom in jou lewe liefgehad het, vir genade gevra het, en nederig is nie.  Jy sal nie alleen deur die dal van doodskaduwee gaan nie – Hy is met jou (Psalm 23:4).  As jy vir sy Naam ly sal sy Gees op jou rus en jou help (1 Petrus 4:14).  Onthou sy kruisdood en liefde vir jou.  Dit sal jou help om Hom tot die einde toe lief te hê:  “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” (1 Johannes 4:19).

 

Begeer jy om vir die Here te sterf?  Wees versigtig.  Dis moontlik om jou lewe te gee sonder dat jy Hom liefhet (1 Korintiërs 13:3).  Roem jy dat jy nie die Here sal verloën nie?  Onthou vir Petrus.  Sal jy jou lewe vir Hom gee as jy nie eers die evangelie met ander kan deel, of opstaan vir wat reg is nie?  Hoe sal jy jou lewe gee as jy nie eers bereid is om jou tyd en geld te gee nie; as jy nie eers getrou is aan sy kudde nie?  Jy sing I surrender all, maar is jy regtig bereid om alles op te gee en Hom te volg (Lukas 14:33)?  Ware liefde is om Hom tot die einde toe lief te hê.

 

Lank gelede was daar ‘n prinses wat in ‘n draak se kasteel toegesluit was.  Na baie jare het ‘n dapper en aantreklike prins op sy wit perd gekom, die draak doodgemaak, die prinses gered.  Hy het haar gesoen, ‘and they lived happily ever after’.  Hierdie verdraaide beeld van liefde kry jy net in feëverhale.  In die regte wêreld word liefde bewys deur ‘n voortdurende begeerte om iemand anders te behaag en sy of haar belange bo jou eie te plaas; deur ‘n gewilligheid om op te offer vir ander.  So moet jou liefde vir Jesus wees.

[1] Die Griekse woord vir kennis (oida) is ‘n perfektum.

[2] As Petrus sê dat Jesus alles weet gebruik hy die woord ginosko wat spreek van ‘n intieme kennis.  Die woord is in ‘n voortdurende tydsvorm.

[3] Amen beteken ‘laat dit so wees’.

[4] John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs, pp.12-13

Die God wat by jou is

Burning bush

Janie se baas gee vir haar ‘n moeilike taak.  Hy gaan met vakansie en vra dat sy elke dag sy troeteldiere moet kos gee.  Sy huis is in ‘n gevaarlike area.  Haar baas stuur vir Tommie om saam te gaan, maar sy is nogsteeds bang.  Na drie dae vind sy uit dat Tommie ‘n swartbelt in karate het.  Sy voel beter maar is steeds bang.  Later vind sy uit dat hy vier keer die wêreldkampioenskappe gewen het.  Sy het amper geen vrees oor nie, maar weet dat karate niks is teen gewere nie.  Toe hoor sy dat die mense in die buurt sy vriende is.  Nou vrees sy glad nie meer nie.

 

As die Here vir jou ‘n moeilike taak gee, sal jy baie minder vrees as jy regtig weet Wie jou gestuur het.  Dis die les wat Moses in Eksodus 3:1-4:17 moes leer.  Sy vier besware moes meegee voor die God wat hom gestuur het.

 

‘Wie is ek?’ (3:1-12)

By ‘n dinee in Indië het William Carey langs ‘n jong Britse staf-offisier gesit.  Carey was ‘n bekende sendeling.  Die offisier wou hom verneder en het voor almal gevra of Carey nie in sy jong dae ‘n skoenmaker was nie.  Sy reaksie was treffend:  ‘No, not even a shoe-maker, sir:  just a cobbler.’[1]  God het dié arme lapper (‘cobbler’) gebruik om die Bybel of dele daarvan in meer as 30 tale te vertaal.  Hy gebruik eenvoudige mense sodat sý krag gewys kan word.  Paulus sê:  “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie… En Hy het vir my gesê:  My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.  Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2 Korintiërs 4:7, 12:9).

 

Moses het sy skoonpa se skape by Horeb of Sinaï opgepas.  Waar is dit?  Dis in Arabië (Galasiërs 4:25).  Die meeste geleerdes dink dat dit in die suide van die Sinaï-Skiereiland is, maar ‘n onlangse studie wys dat dit dalk in die noord-westelike hoek van moderne Saudi-Arabië is.  Terwyl Moses hiér was het die Engel van die Here in ‘n brandende bos aan hom verskyn.  Volgens die res van die hoofstuk, asook Genesis 16, Rigters 6, 13, was hierdie Engel God self.  Dié Engel of Boodskapper was die Seun van God.  Die bos waarin Hy verskyn het, het gebrand, maar nie uitgebrand nie.  Die vlam het nie hout nodig gehad om te brand nie.  Hierdeur het God gewys dat Hy onafhanklik is:  Hy het nie sy skepping nodig om te bestaan nie.  Hy het ook gewys dat Hy in die midde van sy volk is, maar hulle nie verteer nie.  Hy is Immanuel, God met ons.

 

Mense in die Verre Ooste trek hulle skoene uit voordat hulle by ‘n huis ingaan.  Jou voete bring modder en grond in die huis in.  Moes Moses sy skoene uittrek omdat dit vuil was?  Nee.  Hy was ‘n skepsel in die teenwoordigheid van ‘n heilige God.  Die vlammende Serafs wat in God se teenwoordigheid was, het hulle hul voete bedek (Jesaja 6:2).  Toe Josua God se generaal (God die Seun) sien, het hy dieselfde gedoen:  “Toe sê die leërowerste van die HERE vir Josua:  Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig.  En Josua het so gedoen.” (Josua 5:15).

 

God het gesien hoe sy volk onderdruk word.  Hy het hulle hulpgeroep gehoor (2:23-25).  “In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hy hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.” (Jesaja 63:9).  Die Here het sy belofte aan Israel onthou.  Die tyd het gekom om hulle te red en te neem na die land van melk en heuning.  Hoekom noem Hy dit ‘n land van melk en heuning, en nie ‘n land van koring en wyn nie?  Melk kan jy uit die koei se spene drink.  Heuning kan jy uit die bynes uithaal.  Koring en wyn moet jy plant, oes, en fyn maak voor jy dit kan gebruik.  Israel sou ‘n ryk land inneem; ‘n land waar die huise klaar gebou, en die gewasse klaar geplant is:

 

“die HERE jou God [sal] jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om jou te gee—groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie—en jy [sal] eet en versadig word… Want die HERE jou God bring jou in ‘n goeie land, ‘n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; ‘n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ‘n land van olieryke olyfbome en heuning; ‘n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ‘n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap; en jy sal eet en versadig word en die HERE jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het.” (Deuteronomium 6:10-11, 8:7-10).

 

God het vir Moses gestuur om die volk te bevry en daarheen te lei.  Moses was swak en nederig.  ‘Wie is ek?’ het hy gevra.  Hy was soos Jesaja en Jeremia.  Jesaja het besef dat hy onrein is (Jesaja 6:5).  Jeremia het geglo dat hy te jonk is (Jeremia 1:6).  Maar die Here het belowe om met Moses te wees.  Die belofte wat vir Josua gegeld het, was ook op Moses van toepassing:  “Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” (Josua 1:5).  Jesus het dieselfde vir ons belowe:  “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20).  As bewys dat Hy met hom was, het God vir Moses gesê:  “Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het:  As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.” (3:12).  Moses moes eers in geloof optree voordat God die teken vir hom gegee het.

 

Wanneer God vir jou ‘n taak gee, moet jy sorg dat jy ‘n akkurate kennis van jouself het, asook van die God wat jou stuur.  Meet jouself aan die Woord en nie aan ander nie.  Sal jy nie versoek wees om hoogmoedig of minderwaardig te voel as jy jouself teen ander meet nie?  Vind die balans van Romeine 12:3:  moenie te veel dink van jouself nie, maar moet ook nie dink dat jy géén gawe het nie.  Erken dat alles wat jy het van God af kom.  Dank Hom vir sy gawes en moenie in jouself roem nie.  Doen wat die Bybel sê:

 

  • “Johannes antwoord en sê: ‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie… Hy moet meer word, maar ek minder.” (Johannes 3:27, 30).
  • “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Korintiërs 4:7).
  • “En wie is tot hierdie dinge bekwaam?… Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God” (2 Korintiërs 2:16, 3:5).
  • “Maar wie roem, moet in die Here roem. Want nie hy wat homself aanbeveel, dié is beproef nie, maar hy wat deur die Here aanbeveel word.” (2 Korintiërs 10:17-18).
  • “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.” (1 Petrus 4:11).

 

As jy te veel van jouself dink sal jy roem, en roem is hoogmoed.  As jy sê dat jy géén gawe het nie sal jy jouself bejammer.  Self-bejammering is ‘n verskuilde vorm van hoogmoed:  jy wens dat mense jou moet raaksien en gelukwens.  Om te sê dat jy nie ‘n gawe het nie, is om God te beledig.

 

‘Wie het my gestuur?’ (3:13-22)

‘n Naam sê baie.  Waaraan dink jy as jy die volgende name hoor:  Nike, Coke, Ferrari, Samsung, Baptis, Spur, Redwood, Margate, Obama, Elvis, koningin Elizabeth?  Enige regdenkende mens wil sy goeie naam beskerm – jy wil nie hê dit moet deur die modder gesleep word nie.  In die Bybel het die betekenis van iemand se naam dikwels sy karakter opgesom.  Jakob beteken hakskeengryper of bedrieër.  Net so som God se Naam sy karakter op.

 

Moses het vir die Here gesê:  “Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê:  Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra:  Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord?” (3:13).  God het geantwoord:  “En God sê vir Moses:  EK IS WAT EK IS.  Ook sê Hy:  So moet jy die kinders van Israel antwoord:  EK IS het my na julle gestuur.  Toe sê God verder vir Moses:  Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel:  Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur.  Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.” (3:14-15).

 

Die Naam ‘EK IS’ impliseer dat God onveranderlik is, dat Hy altyd dieselfde is.  Hy is ewig:  Hy sê nie ‘EK WAS’ nie, maar ‘EK IS’.  Hy is onafhanklik.  Geen mens kan sê:  ‘EK IS’ nie.  Ons het God nodig en kan nie uit onsself bestaan nie.  Net God is onafhanklik en het lewe in Homself.  Die Naam ‘Here’ impliseer dat God soewerein is.  In die Nuwe Testament praat Jesus van Homself as ‘EK IS’ (Johannes 8:58, 18:5-8).[2]  In Johannes het Jesus ten minste sewe keer gesê:  ‘EK IS die Brood van die Lewe, EK IS die Lig vir die wêreld, EK IS die Deur vir die skape, EK IS die Goeie Herder, EK IS die Opstanding en die Lewe, EK IS die Weg, die Waarheid, en die Lewe, EK IS die ware wynstok.’  In Filippense 2:11 se Paulus dat Jesus die Here is.  Ja, Jesus is die God wat in Eksodus 3 aan Moses verskyn het.

 

Moses moes vir Farao vra om die Israeliete te bevry, sodat hulle dié God in die woestyn kon aanbid en Hy hulle sondes kon vergewe.  Hoekom in die woestyn?  Later lees ons:  “Toe laat Farao Moses en Aäron roep en sê:  Gaan heen, offer aan julle God in die land.  Maar Moses antwoord:  Dit is nie reg om so te doen nie; want wat ons aan die HERE onse God offer, is ‘n gruwel vir die Egiptenaars.  As ons iets wat ‘n gruwel is vir die Egiptenaars, voor hulle oë offer, sal hulle ons dan nie stenig nie?  Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die HERE onse God kan offer soos Hy ons sal beveel.” (8:25-27).

 

God het vooraf geweet dat Farao nie gehoor sou gee nie.  God sou hom met tien plae moes dwing.  Daarna sou hy hulle laat trek.  Die Israeliete moes die Egiptenare vir goud, silwer en klere vra.  Moes hulle dit doen, sodat hulle ryk kon word, of sodat hulle materiaal kon hê vir die tabernakel wat later gebou sou word?

 

Onthou wie jou stuur.  Onthou dit wanneer jy bang is om die evangelie te deel, in die openbaar te bid, iemand moet konfronteer oor sy sonde, alleen moet staan vir die waarheid, ongeregtigheid moet teëstaan, of ‘n moeilike teks moet preek.  As jy onthou dat Gód jou stuur sal dit jou vreesloos en dapper maak.  Dit sal jou na die Bybel toe dryf om seker te maak jy verteenwoordig God op ‘n akkurate wyse.  Dit sal maak dat jy versigtig is om sy Naam te eer.

 

‘Hulle sal my nie glo nie’ (4:1-9)

In die Westcar Papirus is daar ‘n storie van ‘n Egiptiese priester, Webaoner, wat ‘n krokodil uit was gemaak het.  Toe hy dit in die meer gooi het dit lewendig geword en weer in was verander toe hy dit optel.  In Eksodus 4 het God ‘n stok in ‘n slang, en toe weer in ‘n stok verander.  ‘[God] does what Egyptian mythology merely imagined.’[3]

 

Buiten vir die slang het Moses se hand ook melaats en weer gesond geword.  Dié tekens sou die volk oortuig dat God vir Moses gestuur het.  As dít hulle egter nie oortuig het nie, moes hy water uit die Nyl neem en dit in bloed verander.  Die Nyl was die lewensbloed van die land, want hierdeur het hulle aan die lewe gebly.  Nou sou God die Nyl ‘doodmaak’.  God het die wonders gegee om te wys dat Hý vir Moses gestuur het.  Moses kon dit nie in sy eie krag doen nie.  Is dit nie die doel van wonderwerke in die Bybel nie?

 

  • “Toe sê Moses: Hieraan sal julle weet dat die HERE my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie: as hierdie mense sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die HERE my nie gestuur nie. Maar as die HERE iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die HERE verag het.” (Numeri 16:28-30).
  • Nadat Elia die weduwee se seun uit die dood uit opgewek het, het sy vir hom gesê: “Nou weet ek dit dat u ‘n man van God is en dat die woord van die HERE in u mond waarheid is.” (1 Konings 17:24).
  • Hoe moes Johannes die Doper weet dat Jesus deur God gestuur is; dat Hy die Messias was? “En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig.” (Matteus 11:4-5).
  • “[Nikodemus] het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.” (Johannes 3:2).
  • Wat was die bewys dat Paulus ‘n apostel was; dat God hom gestuur het? “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.” (2 Korintiërs 12:12).

 

Kan jy onderskei of iemand regtig deur God gestuur is of nie?  As jy nié kan onderskei nie sal jy maklik vir vals leraars val.  As jy hulle lering volg sal jy in die hel beland.  Sorg dus dat jy kan onderskei wie deur God gestuur is en wie nie.  Hier is ‘n paar kenmerke van vals leraars:

 

[1] Vals leraars doen bonatuurlike dinge deur die mag van Satan.  Hulle fokus hierop.  Hulle doen dit om God se kinders te mislei (Matteus 24:24).  Moet dus nie dink God het iemand gestuur, net omdat hulle iets indrukwekkend doen nie.

 

[2] Vals leraars sal jou ongemaklik laat voel (Galasiërs 1:7).  Wat hulle sê sal jou dwars in die krop steek en teen jou gees indruis.  Jesus se skape ken sy stem en volg Hom (Johannes 10:27).

 

[3] Vals leraars se woorde strook nie met die Bybelse evangelie nie (Galasiërs 1:8-9).  Meet hulle woorde aan die Bybel.  Jy sal sien dit stem nie ooreen nie (1 Timoteus 1:11, 6:3).

 

[4] Vals leraars is geldgierig en seksueel immoreel (2 Petrus 2:14).

 

[5] Vals leraars het hulle eie weergawe van Jesus (1 Johannes 4:2-3).  Húlle Jesus is nie die Jesus van die Bybel nie.

 

[6] Vals leraars misbruik genade en sê dat hulle vry is om sonde te doen (Judas 4).

 

[7] Vals leraars het ‘n obsessie met Satan en demone.  Hulle vrees nie om die duiwel te belaster nie (Judas 8-10, 2 Petrus 2:10-12).

 

[8] Vals leraars roem oor hulleself (Judas 16).

 

[9] Vals leraars is verslaaf aan allerhande sondes (2 Petrus 2:19).

 

[10] Vals leraars gebruik die wet verkeerd.  Hulle dink dat ‘n mens daardeur gered word, en verstaan nie dat God dit gegee het om ons sonde uit te wys nie (1 Timoteus 1:7-10).

 

‘Ek kan nie goed praat nie’ (4:10-17)

In sy jong dae kon John Piper nie voor ‘n groep mense praat nie.  Dit was so erg dat sy keel toegetrek het.  In sy kollege jare moes hy ‘n toespraak in sy Spaanse klas lewer.  Dit het bitter moeilik gegaan.  In 1966 moes hy vir die somerskool in die kapel praat.  Hy het ‘n verbond met die Here gemaak:  ‘As U my hierdeur help sal ek nooit weer ‘n versoek om in die openbaar te praat, van die hand wys nie.’  Die Here het hom gehelp.  Vandag is hy een van die wêreld se beste predikers.  God het hom welsprekend gemaak.[4]

 

Soos Jeremia ná hom (Jeremia 1:6), het Moses vir die Here gesê dat hy nie goed kon praat nie.  Die Here het geantwoord:  “Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind?  Is dit nie Ek, die HERE, nie?” (4:11).  God het belowe dat Hy hom sou leer om te praat.  Hy sou vir Moses doen wat Hy later vir die apostels gedoen het:  “Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” (Matteus 10:19-20).

 

Moses wou nogsteeds nie gaan nie.  God het kwaad geword en gesê dat Hy vir Aäron sou stuur om hom te help.  God sou met Moses praat.  Moses moes dan die woorde vir Aäron sê, en hý sou dit vir die volk sê.  Moses het sy staf opgetel en gedoen soos God gesê het.

 

Moenie bang wees as God vir jou ‘n moeilike taak gee nie.  Vertrou op Hom en bid dat Hy jou sal toerus en versterk.  Moenie sê:  ‘Ek kan nie.’  Dis nou wel in ‘n ander konteks, maar die beginsel in Filippense 4:13 geld hier ook:  “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”  Vrees is ‘n vorm van ongeloof.

 

Steve Green gee ‘n akkurate beskrywing van die God wat by ons is:

 

He is fierce and He is tender

He’s our Judge and our Defender

And He calls us to surrender

For He loves us to the core

He is frightening and resplendent

He is present and transcendent

He’s enmeshed and independent

And He cannot love us more

So He calls our names

And we fear Him for His goodness

For we know He won’t be tamed

So He calls our names

And we wonder if we answer:

‘Will we ever be the same?’

He’s a comfort and a terror

A destroyer and repairer

He’s more terrible and fairer

Than our mortal tongues can say

He is hidden and revealing

He’s appalling and appealing

He’s our wounding and our healing

And He will not turn away

He is wild, He is wonder

He is whispering and He is thunder

He is over, He is under

And He suffered for our gain

He’s a comfort and a danger

He’s a Father and a stranger

He’s enthroned and in a manger

And He says we’re worth His pain

[1]S. Pearce Carey, William Carey, p.30

[2] Die Griekse woorde ego eimi beteken nie ‘Dit is Ek’ nie, maar ‘EK IS’.

[3]John Currid, Exodus vol.1, p.101

[4] John Piper, Future Grace, pp.51-53