Evolusie, rassisme en die beeld van God

Evolution and racism

Die rassehaat in ons land loop dik.  Tydens my verlof het ek baie daaroor gelees, gebid en dit met my vrou en kinders bespreek.  Elke nou en dan hoor ‘n mens van iemand wat a.g.v. rassistiese opmerkings in die moeilikheid beland.

 

Afrikaners dink dat dit eensydig is, terwyl die meeste Afrika stamme in die verlede onderdruk gevoel het.  Na hulle mening is kolonialisme en apartheid die twee groot sondebokke.

 

Dit het selfs in die kerk ‘n kwessie geraak.  Verlede jaar het ek ‘n e-pos ontvang waarin twee leraars mekaar oor die kwessie aangevat het.  ‘n Paar weke gelede het dit weer gebeur.  Ek glo dat ons op hierdie punt deur die wêreld beïnvloed is.

 

Rassisme kom uit ‘n evolusionistiese wêreld beskouing waarin die mens ‘n soort dier is.  Die meeste evolusioniste sal dit ontken, maar rassisme is heeltemal konsekwent met hulle beskouing van die mens.  Evolusioniste het nie rassisme uitgedink nie, maar hulle het verseker petrol op die vuur gegooi.

 

‘n Evolusionis van Harvard Universiteit het gesê dat rassisme geweldig toegeneem het toe die evolusie teorie in 1859 aanvaar is.[1]  Die subtitel van Charles Darwin se Origin of Species is, ‘The Preservation of Favoured Races in the Struggle for Life’.  Volgens sy boek, The Descent of Man, het sommige rasse verder in die evolusie proses gevorder as ander.

 

Vir 150 jaar reeds het die evolusie teorie rassisme bevorder.  Mense het dit gebruik om volksmoorde te regverdig en die Australiese Aborignes soos diere te jag.  In Amerika en Europa het hulle swart mense in hokke gesit om deur die publiek aanskou te word (Ota Benga in 1906 en Sara Baartman in 1810).[2]

 

Christene het ook in die strik getrap en rassisme uit die Bybel probeer regverdig.  Dink maar aan die stigma van die NG-Kerk en apartheid.  ‘n Paar dekades later het ons besef dat hulle hopeloos verkeerd was.

 

In 1994 het baie geglo dat Nelson Mandela ‘n tipe messias is wat gekom het om versoening te bewerk.  Maar na byna 25 jaar is dit duidelik dat daar nie versoening is nie.  BEE, regstellende aksie, die kwota stelsel, plaasmoorde en optogte waarin mense swart klere dra, wys dat die probleme nie opgelos is nie.

 

As daar ooit ‘n oplossing kom, moet dit by die kerk begin.  Die wêreld kan eenvoudig nie hierdie probleme oplos nie.  Vir duisende jare reeds het hulle probeer om vrede tussen die Jode en haar bure, die Hutu en die Tutsi, die Afrikaner en Afrika stamme te bewerk.  Die Verenigde Nasies het al hulle neus in hierdie sake gesteek, maar hulle was onsuksesvol.

 

Net Jesus Christus kan hierdie probleem oplos (Ef. 2:11-22, Kol. 3:11, Op. 5:9).  Ons moet ons aan Hom, sy Woord en die evangelie onderwerp.  As ons dit doen, sal dit ‘n kragtige getuienis vir die wêreld wees.  As hulle sien dat Jode en Palestyne, of sg. blankes en swart mense een is in Christus, sal hulle hulle ore spits.  Jesus self het tog gesê dat mense in Hom sal glo as hulle sien dat ons een is en dat ons mekaar liefhet (Joh. 13:34-35, 17:21).

 

As ons egter in die rasse haat deel, sal die wêreld vir ons lag en sê dat ons soos hulle is.  En as ons soos die wêreld is, moet ons nie wonder hoekom mense nie in die evangelie belangstel nie.  ‘n Onheilige kerk sal nooit ‘n onheilige wêreld vir die Here wen nie.

 

As ons mense vir die Here wil wen, moet ons hulle liefhê.  En om hulle lief te hê moet ons hulle sien soos die Here hulle sien.  Hoe is dit?  Gen. 1:26-27 wys vir ons.

 

Wat God se beeld nié is nie

Tydens my verlof het ek ‘n boek oor die prosperity gospel gelees.  Meer as ooit is ek oortuig dat dit glad nie met Christenskap geassosieer moet word nie, maar dat dit kulties en okkulties.  M.b.t. die mens wat na God se beeld gemaak is, sê Kenneth Copeland en Benny Hinn bv. dat Adam ‘n presiese kopie of afdruksel van God was, in vorm en grootte.[3]  Hulle verkondig onbeskaamd dat die mens ‘n god is, en dat hy God se gelyke is.[4]  Copeland sê:  ‘Adam, in the Garden of Eden, was God manifested in the flesh’.[5]

 

Om só te sê is eintlik om God na óns beeld te maak.  En om God na ons beeld te maak is niks anders as afgodery nie (Hand. 17:29).  Ons is ook soms skuldig hieraan.  Ons sê dinge soos:  ‘Die God wat ék aanbid…’  Partykeer skep ons ‘n god wat nie sal omgee as ons net ‘n bietjie sonde doen nie.  Ons skep ‘n god wat nie omgee dat mense hel toe gaan nie, ‘n god wat niks in jou lewe kan doen tensy jy vir Hom toestemming gee nie, ‘n god wat nie in die wêreld kan werk tensy ons Hom toelaat nie, ‘n god wat sekere reëls moet volg wanneer Hy teen die duiwel veg, ‘n god wat daar is om óns te dien, om vir óns materiële voorspoed te gee.

 

Ons maak ook ‘n afgod van allerhande dinge in die skepping:  kos, geld, plesier, ons liggame, ander mense, ons troeteldiere, en meer.  As jy enige iemand anders as die Drie-Enige, almagtige, ewige, genadige, alomteenwoordige, regverdige, heilige, liefdevolle, perfekte, heerlike, onveranderlike, soewereine, ens. God aanbid, aanbid jy ‘n afgod.  Jy het probeer om die Here na jóú beeld te maak, en het vergeet dat jy na sý gemaak is (v.26-27).

 

God se beeld beteken nie dat Hy ‘n liggaam het nie.  Ja, Hy het by tye in die Ou Testament in ‘n menslike liggaam verskyn (bv. aan Abraham in Gen. 18).  Ons weet ook dat Christus in Betlehem as ‘n mens gebore is, en dat Hy vir ewig een sal wees (Luk. 24:36-43, 1Tim. 2:5).  Jesus Christus is een Persoon met twee nature:  Hy is volkome God en volkome mens.  Sy Goddelike natuur is nie sy menslike natuur nie en andersom.  Die punt wat ek wil maak, is dat Jesus in sy menslike natuur ‘n liggaam het, maar dat die Drie-Enige God in sy essensie ‘n onsigbare Gees is wat nie ‘n liggaam het soos ons nie (Deut. 4:12, 15-18, Joh. 4:24, 1Tim. 1:17).  Wat beteken dit dan dat God ons na sy beeld gemaak het?

 

Wat God se beeld beteken

Ek het vir baie jare gewonder wat dit beteken dat ons na God se beeld gemaak is.  Ek het ook maar gedink dat dit iets met ons liggame te doen het.  ‘n Sem student het eendag in die klas met my gestry en gesê dat God ‘n liggaam het.  ‘n Familie-lid het ook vir my gesê dat God ‘n liggaam het, en dat Hy ‘n DNA het.

 

Ek het hierbo gewys dat God ‘n Gees is, en dat Hy nie ‘n liggaam het nie.  As God ‘n liggaam het, is sy voet op een plek en sy hand op ‘n ander plek.  In daardie geval kan Hy nie oneindig, ewig en alomteenwoordig wees nie.  Wanneer die Bybel van God se hande, voete, oë, ens. praat, is dit om óns te help om iets van sy vermoëns te verstaan.  Teoloë noem dit antropomorfismes (anthropos = mens, morphe = vorm).

 

God se beeld beteken eerder dat ons iets van sy karakter reflekteer, weerspieël of weerkaats.  God het die plante, voëls, visse en diere volgens hulle soorte gemaak (v.11-12, 21, 24-25), maar die mens het Hy na sý beeld en gelykenis gemaak (v.26-27).  Die mens is nie volgens die diere se soorte gemaak nie; hy is nie ‘n soort dier wat ver in die proses van evolusie gevorder het nie.  Hy is uniek en anders as enige ander skepsel.  Hy is ten minste op die volgende maniere soos God en daarom anders as die res van die skepping.[6]

 

[1] Kommunikasie

Soos die Here in v.26, kan ons op ‘n diep vlak kommunikeer.  Selfs ‘n kind se kommunikasie is meer ingewikkeld as ‘n walvis s’n.  Walvisse kom nooit bymekaar om die tekort aan plankton of kril te bespreek nie.  Papegaaie kan honderde klanke naboots, maar hulle kan nie Chinese grammatika ontleed nie.

 

[2] Heerskappy

Soos God, heers mense oor die skepping (v.26, 28, Ps. 8:7-9).  Eintlik heers die mens as God se verteenwoordiger.  Hy is ‘n rentmeester van die skepping wat aan God behoort.

 

[3] Geestelikheid

Voëls sing omdat God hulle so gemaak het.  Hulle dink nie bewustelik aan sy goedheid en majesteit nie.  Maar wanneer ons sing doen ons dit bewustelik omdat ons dankbaar is, en omdat ons die Here liefhet.  Ons kan ook bid, die Woord inneem en dit gehoorsaam, ander dien, en ander gelowiges se geselskap geniet.  Het jy al ‘n trop beeste gesien wat dit doen?

 

[4] Moraliteit

God is die oorsprong van moraliteit.  Hy bepaal wat reg en verkeerd is, wat moreel en immoreel is.  Soos God, is die mens ‘n morele wese wat tussen reg en verkeerd kan onderskei.  Ons het ‘n gewete.  Diere kan uit instink of vrees reageer, maar hulle het nie ‘n gewete wat hulle wakker hou as hulle jou roosbome oopgegrawe het nie.  Hulle doen nie sonde nie, en streef ook nie daarna om heilig te wees nie.  Ons kan sonde haat en daarna streef om die Here meer te ken en heilig te wees (Ef. 4:24, Kol. 3:10).

 

[5] Intellek

Diere kan dink en slim toertjies doen, maar hulle kan nie diep redeneer of abstrak dink nie; hulle kan dink, maar hulle kan nie dink dat hulle dink nie.  As ek met my hond oor die Anglo-Boere Oorlog praat, kyk hy vir die gras.  Sjimpansees is intelligent, maar hulle kan nie ‘n matriek wiskunde vraestel skryf nie.

 

[6] Skeppingsvermoë

Ons kan nie uit niks skep soos God nie, maar ons het die vermoë om kreatief en skeppend te wees.  Wewers (‘n soort voël) kan mooi neste maak, maar kan nie op die vlak van ‘n argitek bou en beplan nie.  ‘n Wewer se nes 100 jaar gelede lyk nog steeds soos ‘n wewer se nes vandag – hulle vorder nie tegnologies nie.  Diere kan nie ingewikkelde rekenaars en enjins ontwerp en bou nie.

 

[7] Onsterflikheid

‘All dogs go to heaven’?  Ongelukkig nie.  Diere gaan nie hemel toe wanneer hulle sterf nie (God sal wel diere op die nuwe aarde skep).  Die mens bestaan nie van die ewige verlede af soos God nie, maar as ons liggame gesterf het sal ons siele vir ewig bestaan.  “[God] has put eternity into man’s heart” (Pred. 3:11, ESV).

 

[8] Emosie

Ons weet dat diere emosies het.  Kyk gerus na hoe jou hond sy stert waai en om jou enkels dans as jy ná ‘n vakansie by die huis kom.  Diere se emosies is egter nie so kompleks soos ons s’n nie.  Wayne Grudem sê:  ‘After watching my son’s baseball game, I can simultaneously feel sad that his team lost, happy that he played well, proud that he was a good sport, thankful to God for giving me a son and giving me the joy of watching him grow up, joyful because of the song of praise that has been echoeing in my mind all afternoon, and anxious because we are going to be late for dinner!’[7]

 

God se beeld, sonde en verlossing

Toe Adam en Eva gesondig het, het hulle nie die beeld van God verloor nie.  Dit is egter beskadig.  Die spieël waarin God sy beeld gesien het, het in stukkies op die vloer geval.  God kan nog steeds dele van sy beeld in ongelowiges sien (Gen. 9:6, Jak. 3:9), maar dit is onduidelik.  ‘n Ongelowige kan bv. diep kommunikeer, maar sy kommunikasie is met vuil taal, leuens, murmurering, ens. besoedel.  ‘n Ongelowige kan tussen sonde en heiligheid onderskei, maar 9 uit 10 keer kies hy sonde.

 

Wanneer iemand tot bekering kom, tel God die spieël se stukke van die vloer af op.  Vir die res van jou lewe hier op aarde is die Here besig om die spieël aanmekaar te sit.  Stadig maar seker begin Hy weer sy beeld in jou sien.  Hy het jou gered om jou na sy beeld, na die beeld van sy Seun, te vorm (Rom. 8:29).  Sy beeld in jou word duideliker soos wat jy geestelik groei (2Kor. 3:18).  Wanneer Jesus kom sal die spieël herstel wees, sodat God weer sy volmaakte beeld in ons kan sien (1Kor. 15:49, 1Joh. 3:2).

 

God se beeld in die praktyk

Toe ek net in Kempton begin het, het ‘n besoeker na die preek vir een van ons lidmate gesê:  ‘So what?’  Sy bedoeling was dat ek die teks uitgelê het, maar dat ek dit nie toegepas het nie.  Dit was nie lekker om dit te hoor nie, maar hy was reg.  Dit help nie ons verstaan ‘n leerstelling (bv. God se beeld in ons), maar ons pas dit nie toe nie.  Hoe moet jy hierdie leerstelling in jou lewe toepas?

 

Verwerp die evolusie teorie wat sê dat die mens eintlik ‘n soort dier is, en dat daar nie ‘n verskil tussen mense en diere is nie.  Glo eerder dat God jou na sy beeld gemaak het, en dat jy nie soos die res van die skepping is nie.  Omdat mense dít verwerp en die evolusie teorie omhels, is bose dinge soos aborsie, genadedood, mensehandel, rassisme, moord, ens. aan die orde van die dag.  Hierdie sondes kom uit die mens se hart, maar soos ek hierbo gewys het, het evolusie dit aangevuur.

 

As evolusie waar is, maak dit nie saak of jy ‘n ongebore baba vermoor en of jy ‘n hoender se eier uit die nes vat nie.  Dit maak ook nie saak of jy ‘n gestremde mens deur sg. ‘genadedood’ vermoor, en of jy ‘n ou Labrador uitsit nie.  En wat maak dit saak of jy ‘n mens aan handelaars verkoop, en of jy ‘n perd verkoop?  As ‘survival of the fittest’ waar is, is mensehandel mos nie verkeerd nie?  En as die mens ‘n soort dier is, kan ons sê dat mense met donkerder (of ligter) velle meer waardevol is as ander, net soos wat ‘n sekere kleur Great Dane meer waardevol is as ander kleure.

 

Ek hoef nie vir jou te sê dat dit belaglik is om so te redeneer nie.  Volgens die Bybel is die mens nie ‘n soort dier nie, maar kom alle mense van Adam af en is hulle na God se beeld gemaak (v.26-27, Hand. 17:26).  Ek het reeds gewys dat daar verskillende soorte plante, voëls en diere is (v.11-12, 21-25).  Dit is egter nie waar dat daar verskillende soorte mense is nie.  Mense kom van verskillende lande af, praat verskillende tale, en is uit verskillende families of stamme.  Maar daar bestaan nie so iets soos verskillende rasse nie.  Daar is net een ras, en dit is die menslike ras.

 

Om dan ‘n mens te onderdruk omdat hy anders as jy lyk, is sonde en ‘n direkte aanval op God se beeld.  Moenie grappe oor iemand maak of hom spot, omdat hy anders as jy lyk nie (dit geld ook vir rassistiese grappe).  Moenie kras woorde van ander nasies gebruik, en dink jy is beter as hulle nie (Jak. 3:9).  Dit bedroef die Here as jy enige mens hanteer asof hy nie na God se beeld gemaak is nie.  Dit geld ook vir gestremde mense.  As ons regtig Gen. 1:26-27 glo, sal ons nie eers daaraan dink om ‘n baba te aborteer omdat hy moontlik ‘down sindroom’ is nie.

 

Jy kan nie ‘n mens soos ‘n plant of ‘n dier behandel nie.  Om vir ‘n hond en vir ‘n mens ‘voetsek’ te sê, is nie dieselfde nie.  Om meer om te gee oor die renoster probleem as oor die moord op ongebore babas, wys dat daar fout is in jou hart.  Jy is deurmekaar en onderstebo; jy moet jou bekeer.

 

As hierdie preek negatiewe gevoelens en woede in jou hart laat opvlam, moet jy dit as sonde bely.  Vra vir die Here om jou te vergewe dat jy sy beeld in ander mense haat.  Vra Hom om jou te help, sodat jy kan doen wat reg is.  Glo dat Jesus se kruisdood voldoende is om sy beeld in jou te herstel, en ook om jou te help om ander lief te hê wat nie soos jy lyk nie.  Moenie God se liefde herdefinieer nie, maar doen wat die barmhartige Samaritaan in Luk. 10 vir sy vyand, die Jood, gedoen het.

 

In die vroeë 1990’s het my predikant in Louis Trichardt dit gedoen.  Hy het besluit dat die kerk oop moet wees vir mense uit alle nasies, en het dit so geadverteer.  Mense het op die advertensie gereageer.  Party het na die kerk toe gekom en tot bekering gekom:  Engelse, Vendas, Afrikaners uit ‘n ‘kleurling’ en ‘blanke’ agtergrond, Russe, Bulgare, Finne, Indiërs en Britte.  Dit was wonderlik.

 

Ongelukkig het nie almal so gedink nie.  Sommige mense in die dorp het vir die predikant dreigbriewe geskryf en op die kerk se stoep gelos.  Hulle het die Vendas sleggesê, en het gesê dat hy hulle omhels het.

 

Ek hoop van harte dat die mense wat hierdie preek lees en hoor, nie so sal reageer nie, maar dat jy die Here sal prys, omdat Hy ons en alle mense na sy beeld gemaak het.

 

[1] Stephen Jay Gould, Ontogeny and Phylogeny, 1977 https://answersingenesis.org/charles-darwin/racism/did-darwin-promote-racism/

[2] Ibid.

https://answersingenesis.org/charles-darwin/racism/darwins-garden/

https://en.wikipedia.org/wiki/Sarah_Baartman

[3] Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson: Nashville, p. 2, 25

[4] Ibid.

[5] Ibid.

[6] Wayne Grudem se Systematic Theology het my baie gehelp in hierdie verband (pp. 442-450).

[7] Ibid., p. 447

Advertisements

Menswaardigheid in die Bybel en vandag

Slave

‘n Groep soldate in Sierra Leone het ‘n swanger vrou op ‘n afstand sien aankom.  Hulle het ‘n wettenskap geneem of die baba ‘n seun of ‘n dogter was.  Toe die vrou nader kom het hulle haar oopgesny om te sien wie reg was, en haar gelos om dood te bloei.

 

Dit is walglik… as jy glo dat die mens na God se beeld gemaak is.  Maar as evolusie waar is, dan is daar geen verskil tussen dié gruwelike daad, en ‘n man wat ‘n lemoen oopsny en die pitte tel nie.  Beide die swanger vrou en die lemoen is die produk van toeval en evolusie.  Net as die mens na God se beeld gemaak is, beteken menswaardigheid iets.

 

Slawe en slavinne (v.1-11)

In 1787 het William Wilberforce ‘n mosie ingedien teen slawehandel.  Die Britse Parlement het teen dié mosie geveg.  Die slawe arbeid in Wes-Indië was voordelig vir Brittanje se ekonomie.  Die parlement was ontevrede met Wilberforce se mosie.  Party het hom selfs met die dood gedreig.  Baie van sy vriende het hom verlaat.

 

Na 20 jaar het Wilberforce uiteindelik in 1807 die saak gewen.  Slawehandel was onwettig.  Om slawe te besit was egter nie onwettig nie.  Wilberforce sou nie opgee nie.  Hy het vir nog 26 jaar geveg om slawerny uit te wis.  Drie dae voor sy dood in 1833, het hy gewen.  Slawerny was eens en vir altyd verban in Britse Kolonies.[1]

 

Hoekom sê Eksodus 21 nie dieselfde nie:  slawerny is geheel en al verbode?  Verse 1-11 praat van iemand wat homself as ‘n slaaf verkoop (22:3, Deuteronomium 15:12).  Vers 16 is teen slawerny soos wat Wilberforce dit geken het.

 

Volgens Eksodus 21 moet slawe met menswaardigheid behandel word; as mense wat na die beeld van God gemaak is.  Sodra jy dít doen, sterf die sisteem ‘n natuurlike dood.

 

Die Israeliete moes onthou dat hulle slawe was in Egipte.  Derhalwe moes hulle goed en gaaf wees met hulle Hebreeuse slawe.  Na sewe jaar moes hulle hul broers kosteloos bevry, en met groot rykdom wegstuur (v.2, Levitikus 25:35-46, Deuteronomium 15:12-18).

 

Die baas moes sy slaaf vrylaat soos wat hy gekom het:  enkel of getroud (v.3).  As sy baas vir hom ‘n vrou gegee het, moes hy sy vrou en kinders agterlaat (v.4).  As ‘n slaaf sy baas, vrou, en kinders liefgehad het, kon hy besluit om te bly (v.5).  In so ‘n geval moes die slaaf saam met sy baas in die stadspoort kom voor die regters (v.6, vgl. Psalm 82).  Sy baas het ‘n els (‘n skerp ysterpen) gevat en ‘n gat deur sy oor geboor.  Die ‘oop oor’ het gesimboliseer dat hy altyd vir sy baas sou luister (Jesus se oor was oop vir sy Vader; sý oor is deurboor [Psalm 40:7, Jesaja 50:4-5].  Deur sý gehoorsaamheid het daar vir ons redding gekom [Filippense 2:8]).

 

As ‘n pa arm raak en nie meer vir sy dogter kan sorg nie, dan mag hy haar as ‘n slaaf verkoop (v.7, Nehemia 5:5).  Só kan sy onder iemand anders se sorg kom.  Omdat vroue in daardie tyd nie vir hulleself kon sorg nie, mag ‘n slavin nie soos ‘n manslaaf vry raak nie (v.7).  As haar baas met haar trou, maar sy hom later nie meer tevrede stel nie, mag hy haar nie weerloos laat of aan die buiteland verkoop nie (v.8).  Haar pa kan haar terugkoop (as hy daartoe instaat is).  Anders kan ‘n nuwe baas haar vir homself koop en haar versorg (v.8).

 

As ‘n man die slavin koop om met sy seun te trou, moet sy vir hom soos ‘n dogter wees (v.9).  As die baas met haar trou en later nog ‘n vrou vat, moet hy nogsteeds sy slavin versorg en haar huweliksregte vir haar gee (v.10, vgl. 1 Korintiërs 7:3, 5).  Indien hy dit nie doen nie, moet hy haar kosteloos vrylaat.  Haar pa of nuwe baas hoef nie ‘n losprys te betaal nie (v.11).

 

Behandel die mense wat onder jou is met menswaardigheid (MW).  Hoe lyk dit in die praktyk?  MW beteken jy sorg goed vir die mense wat vir jou werk (by die huis of by die werk).  Moenie jou werkers so min as moontlik betaal nie.  Moenie laat hulle vir 13 of 14 werk nie.  Die Skrif sê:  “Betoon reg en billikheid, here, aan julle diensknegte, omdat julle weet dat julle ook ‘n Here in die hemele het.” (Kolossense 4:1).

 

Sommige regse Afrikaners glo dat swartes nie siele het nie, en dat hulle nie in die hemel sal wees nie.  In die 1700’s het baie slawe-eienaars geglo dat slawe nie siele het nie.  MW beteken dat slawe en swartes na God se beeld gemaak is, siele het, en in die hemel sal wees.  MW beteken jy deel die evangelie met dié wat die minste is in die samelewing (slawe).  MW beteken elke mens is na God se beeld geskep en kom nie van ape af soos wat evolusie sê nie.

 

MW beteken jy het respek vir vroue (v.7-11):

 

  • Laat haar eerste by die deur instap.
  • Beskerm haar teen gevaar.
  • Help haar as sy swaar dra.
  • Moet haar nie verbaal, emosioneel of fisies boelie nie.
  • Moenie met gevoude hande toekyk hoe sy ‘n man se werk doen nie (bv. hout kap).
  • Leer jou seuns om respek te hê vir meisies en vroue.

 

Moord en manslag (v.12-14)

‘n Misdadiger in Los Angeles het die doodstraf gekry.  Winnie Mandela het vir Arnold Schwartzenegger gevra om nie die doodstraf te gee nie.  Sy het gesê dat die doodstraf tydens apartheid baie trane en skade veroorsaak het.  Schwartzenegger het haar geïgnoreer en die man tereggestel.  So het hy gewys dat die mens se lewe waardig is.  Jy kan nie sommer net iemand soos ‘n muskiet doodmaak nie.  As jy ‘n mens doodmaak, sal jou lewe geneem word.

 

God vereis die doodstraf vir moord (v.12, 14).  Die Skrif sê:  “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.” (Genesis 9:6).  “Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy [die regering] dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.” (Romeine 13:4).  “almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.” (Matteus 26:52).

 

God vereis nie die dood vir manslag nie.  As jy per ongeluk iemand doodmaak, het God dit so beskik (v.13).  In dié geval kan jy na ‘n vestingstad toe vlug (v.13, Deuteronomium 19:4-5, Numeri 35, Joshua 20).  As jy egter kwaadwillig en moedswillig was, is dit moord.  In so ‘n geval is jy nie eers veilig by die altaar nie (v.14, 1 Konings 2:28-34).

 

Jy moet respek hê vir die mens se lewe.  MW beteken dat jy die doodstraf voorstaan vir ernstige oortredings soos moord.  MW beteken jy glo nie in onregverdige doodstraf soos in Islam, waar Christene doodgemaak word as hulle kerk hou of evangelisasie doen nie.  MW beteken jy glo nie in doodstraf vir kleiner misdade soos diefstal nie.  MW beteken jy ken die verskil tussen onmenslike marteling en waardige doodstraf.

 

MW beteken jy straf nie iemand vir manslag soos vir moord nie.  Jy laat nie die moordenaar vrykom vir omkoopgeld nie, en jy straf nie die man wat die gewapende en geweldadige inbreker skiet om sy gesin te beskerm nie (v.13).  MW beteken jy neem nie self wraak nie, maar laat die straf oor aan God en die regering wat Hy daargestel het (Matteus 5:38).  MW beteken jy behandel ‘n dooie mens se liggaam met respek, en gooi dit nie in die veld nie soos ‘n rot wat gevrek het nie.

 

Ouers en ontvoering (v.15-17)

Toe ek op skool was, het ‘n vrou wat in die straat op gebly het onsteld en in trane by ons huis aangekom.  Haar 18-jarige broer het haar en haar ma geslaan.  Ek wonder hoeveel kinders doostraf sou kry as v.15, 17 in ons dag nog van krag was (v.5, 17, 20:12)?  As jy teen jou ouers rebelleer, is dit omdat jy rebels is teen God se gesag.

 

Dit is nie ‘n probleem as ‘n arm man homself as ‘n slaaf verkoop nie.  Om egter mense te steel of te koop verdien die doodstraf (v.16, Genesis 37, Deuteronomium 24:7).  In hierdie geval is die deler so goed soos die steler.

 

Wys respek vir jou ouers.  Moenie mense steel nie.  MW beteken jy verhef nie ‘n kind se regte, sodat hy onaantasbaar is nie.  Dit hoort nie so dat die kind sy ouer of onderwyser kan behandel soos wat hy wil, sonder dat daar gevolge is nie (v.15, 17).  MW beteken jy glo nie dat pakslae sleg is vir ‘n kind se MW nie.  Jy beskou pakslae as ‘n hulp:  jy slaan omdat jy nie wil hê MW moet in die toekoms ten gronde gaan nie.  Jy weet dat rebelse kinders binnekort rebelse jongmense sal wees wat soos diere optree.

 

MW beteken jy slaan nie ‘n kind soos ‘n dier nie (v.20).  Jy beskou pakslae eerder as ‘n liefdvolle maatreël om die kind reg te help.  MW beteken jy gee nie vir ‘n stoute kind Ritalin omdat hy ‘siek’ is nie; jy gee vir hom pak omdat hy sonde doen.  MW beteken jy besef dat Ritalin jou kind soos ‘n zombie laat ronddwaal, en verneder hom tot die vlak van ‘n mal mens of ‘n irrasionele dier.  John Stott en C.S. Lewis sê:

 

‘To say that somebody “is not responsible for his actions” is to demean him or her as a human being.  It is part of the glory of being human that we are held responsible for our actions.’[2]

 

‘To be “cured” against one’s will, and cured of states which we may not regard as disease, is to be put on a level with those who have not yet reached the age of reason or those who never will; to be classed with infants, imbeciles, and domestic animals.  But to be punished, however severely, because we have deserved it, because we “ought to have known better”, is to be treated as a human person made in God’s image.’[3]

 

MW beteken jy ontken nie dat daar ‘n rangorde in die samelewing is nie.  Jy sê nie ‘diskriminasie!’ vir sulke rangordes nie.  MW beteken jy erken dat kinders hulle ouers en onderwysers moet eer.

 

MW beteken jy glo ontvoering of ‘human trafficking’ onteer die mens, en moet hard gestraf word (v.16).  Jy kan nie met mense handel soos met beeste nie.

 

Beserings en betaling (v.18-27)

‘n Ou man in my skoonma se kerk het rustig op die pad gery toe ‘n dronk man sy humeur verloor het, hom van die pad afgedruk het, uit sy kar geklim het, en die ou man geslaan het.  Die ou man is dood na ‘n kort rukkie in die hospitaal.  Eksodus 21 het reëls vir dié tipe situasies.

 

Gestel twee mans stry en raak in ‘n vuisgeveg betrokke.  Die een beland op ‘n siekbed (v.18).  As die man gesond word en met sy kruk buite loop, moet die ander man die sieke se verlore salaris en mediese onkostes betaal (v.18-19).  As die sieke egter vir ‘n ruk in die bed lê en dán doodgaan, moet die skuldige die doodstraf kry.

 

Ander reëls geld vir slawe, omdat sy baas hom met ‘n rottang mág straf.  As die slaaf egter onder die houe sterf, moet sy baas die doodstraf kry (v.20, 12, 14).  As hy vir ‘n ruk oorleef, is dit duidelik dat die baas hom nie wóú doodslaan nie.  Dié baas is skuldig aan manslag en kry nie die doodstraf nie.  Die verlies van ‘n slaaf beteken hy verloor geld.  Dit is genoeg straf (v.21).  Dis soos ‘n ongehoorsame kind wat seerkry.  Die seerkry is straf genoeg; dis nie nog nodig vir ‘n pak ook nie.

 

Gestel twee mans slaan vuis en slaan per ongeluk ‘n swanger vrou, sodat die baba uitkom.  As die kind nie beseer is nie, moet die vrou se man die oortreder dagvaar.  Die regters moet hom beboet, om hom daardeur te waarsku om versigtig te wees in die toekoms (v.22).  As die baba seergekry het of sterf (dalk omdat die kind vroeg gebore is?), is dit ‘n lewe vir ‘n lewe, ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ens. (v.23-25).  God is reverdig en sal toesien dat die misdaad en die straf bymekaar pas.

 

As ‘n baas sy slaaf se oog of tand uitslaan, moet die slaaf vrygelaat word (v.26-27).  Die baas hoef nie sy oog of tand te verloor nie, want as jy ‘n slaaf straf bestaan die risiko dat hy sy oog of tand verloor.

 

Moenie jou naaste se lewe bedreig of sy liggaam beskadig nie.  MW beteken jy sê nie ‘n mens sleg soos ‘n hond nie (v.18, Jakobus 3:9).  MW beteken jy wys selfs respek vir jou vyand (v.19).  “As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit sekerlik vir hom terugbring.  As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie:  jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai.” (23:4-5).

 

MW beteken jy bevorder jou naaste se gesondheid (v.19).  Dit impliseer onder andere dat jy nie rondom mense rook wat nie graag jou nikotien wil inasem nie.  MW beteken jy dink aan die gevolge voor jy sommer net iemand met die vuis bydam (v.18).

 

MW beteken jy het respek vir swanger vroue (v.22).  Staan op in ‘n vol bus of trein, sodat die swanger vrou kan sit.  Laat ‘n swanger vrou voor jou in die ry staan by die bank of in die winkel.

 

MW beteken jy haat aborsie; jy vermoor nie ‘n mens net omdat hy klein is nie (v.22-25).  MW beteken jy maak nie ‘n baba dood vir jóú sonde en foute nie.  MW beteken jy vermoor nie ‘n gestremde baba nie (v.24).  MW beteken jy veg vir dié wat nie vir hulleself kan veg nie (v.22-24, Spreuke 24:11-12, 31:8).  MW beteken jy sal aandring dat die doodstraf toegepas word ook vir aborsie (v.23).  ‘n Bangladeshi man het vir my gesê dat aborsie in sy land met die dood gestraf word.

 

Diere en doodstraf (v.28-32)

‘n Paar jaar gelede het ‘n pitbull ‘n kind by ‘n veearts kliniek in Kempton Park gebyt.  Die veearts het dadelik die hond uitgesit.  Volgens die Skrif is dit hoe dit hoort, want die mens se lewe is waardig.

 

As ‘n bees ‘n man of vrou doodmaak, moet die bees gestenig word (v.28).  Die Skrif sê:  “Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis:  van al die diere sal Ek dit eis.” (Genesis 9:5).  Jy mag nie die dooie bees se vleis eet nie, en die eienaar is onskuldig (v.28).

 

Wat as die bees al voorheen mense gegaffel het, en die baas dit geweet het maar niks daaraan gedoen  het nie?  Die bees én sy eienaar moet sterf (v.29).  Omdat dit nie direk moord was nie, kan iemand die eienaar loskoop volgens die prys wat die regters bepaal (v.30, kontr. Numeri 35:31-32).

 

Die reëls van v.28-30 geld ook as ‘n bees ‘n seun of dogter doodmaak (v.31).  Die bees moet ook sterf as dit ‘n slaaf doodmaak (v.32).  Dit wys weereens dat slawe na God se beeld gemaak is.  Die bees se eienaar moet vir die slaaf se baas 30 stukke silwer gee om ‘n nuwe slaaf te koop (v.32, vgl. Matteus 26:15).  Omdat slawe soms met beeste werk, bestaan die risiko dat hulle doodgemaak kan word.

 

Ons moet menswaardigheid se verhouding tot diere in ‘n regte lig beskou.  Hoe is dit?  MW beteken ons straf diere wat ‘n mens se lewe neem:  skiet die olifant, leeu, hond, of bees.  MW beteken jy tref voorsorg, sodat jou dier nie onnodig ‘n mens doodmaak nie (v.29):  sluit jou kwaai honde weg, sit elektriese heinings om jou plaas as daar leeus is, sit borde op wat mense teen gevaarlike diere waarsku.  MW beteken jy straf mense wat nalatig is met hulle gevaarlike diere (v.29).  MW beteken jy ag nie diere hoër as mense nie (v.28-32):  jy straf nie mense wat klappers naby honde skiet, maar maak aborsie wettig nie.

 

Peter Singer is ‘n bekende ateïs.  Volgens hom is ou mense en gestremdes ‘n las vir die samelewing.  Hy sê dat ‘n gesonde vark meer reg het om te lewe as hulle.  Hy het geen gewetensbeswaar as hulle doodgemaak word nie.  Ander mense in ons tyd maak ‘n afgod van MW.  Hulle glo dis hulle rég om gay te wees.  Hulle verskoon moord, dronkenskap, pedofilia, en rebelsheid as ‘n ‘siekte’.

 

Sonde laat mense so redeneer.  Die wêreld kan nie MW reg verstaan nie.  Eers as jy gered is en die Skrif gehoorsaam, kan jy MW in reg verstaan.

[1] John Piper, The Roots of Endurance, pp.129-132

[2] John Stott, The Cross of Christ, p.120

[3] Ibid

Die kerk: wie is ingesluit?

Black and white hand

Operation World is ‘n boek wat onder andere syfers van verskillende Christelike kerke gee.  By die syfers sluit Patrick Johnstone, die outeur, kultusse soos die Jehova’s Getuies, Sewendedag Adventiste, Mormone, en Rooms-Katolieke in.  Enige kultus sê dat net mense wat by húlle aansluit, hemel toe gaan.  Johnstone sluit dus kultusse in, terwyl kultusse die res uitsluit.  Maar wat die Skrif:  wie is deel van die kerk; wie is ingesluit?  Handelinge 10:1-11:18 sal vir ons sê.

 

Die visioen (10:1-33)

Sesarea was op die kus, 112 km noord-wes van Jerusalem.  Cornelius was ‘n offisier van die Italiaanse leërafdeling, kaptein oor 100 soldate.  Hy was vroom en opreg.  Hy het nie-amptelik die Joodse geloof aangeneem.  Hy was dus nie ‘n proseliet nie, maar ‘n godvresende.  Hy het baie gebid en veral die armes onder die Jode gehelp (v.1-3, 22).  Een middag om 15:00, tydens die Joodse gebedstyd, het ‘n engel aan hom verskyn.  Hy was vreesbevange, maar die engel het hom vertroos:  ‘Jou gebede en sorg vir die armes het as ‘n gedenkoffer voor die Here opgestyg. [v.3-4, Levitikus 2:2].  Stuur iemand Joppe toe om vir Simon Petrus te haal.  Hy bly teen die kus by Simon die leerlooier se huis.  Hy sal vir jou sê hoe om gered te word.’  Cornelius was gehoorsaam en het twee slawe en ‘n getroue soldaat gestuur.  Vroeg die volgende oggend het hulle die 48 km reis na die suidkus toe aangedurf (v.5-8).  Teen 12:00 was hulle naby Joppe.  Petrus was op die huis se plat dak, besig om te bid.  Hy het geruik hoe die bediendes kos kook.  Sy mond het gewater.  Skielik het daar ‘n laken vol van rein en onrein diere uit die hemel neergesak (v.9-12).  Jesus het vir Petrus gesê om te slag en te eet.  Hy het kapsie gemaak:  ‘Ek kan nie Levitikus 11 oortree nie Here.’  Maar reeds in Markus 7:19 het Jesus alle kos rein verklaar.  Om sy punt te beklemtoon het Jesus sy opdrag aan Petrus drie keer herhaal.  Die laken is teruggeneem hemel toe (v.13-16).

 

Petrus het gewonder wat die visioen tog kon beteken.  Die Heilige Gees het vir hom gesê dat daar drie mans by die hek is.  Hy moes nie huiwer om saam met hierdie heidene te gaan nie.  Petrus het teen sy Joodse tradisie ingegaan en die heidene ingenooi! (v.17-23).  Cornelius het solank sy vriende en familie bymekaar gemaak en vir Petrus gewag.  Toe Petrus daar aankom het Cornelius by sy voete neergeval om hom te aanbid.  Petrus het hom reggehelp en gesê dat geen skepsel aanbid moet word nie.  God alleen is waardig om aanbid te word.  Petrus het by die ‘onrein’ heiden se huis ingegaan.  Met woord en daad het hy erken dat die heidene rein is (v.24-26).  John Stott sê:  ‘Peter refused both to be treated by Cornelius as if he were a god, and to treat Cornelius as if he were a dog.’ (The Message of Acts, p.189).  Cornelius het dadelik sy visioen met Petrus gedeel (v.30-33).

 

Soek jy God opreg?  Jy het al verskillende dinge probeer om ‘n regte stand voor God te hê.  Jy vas, bid, is gedoop, gebruik nagmaal, het by ‘n kerk aangesluit, doen goed aan ander, lees jou Bybel, lees net geestelike boeke, luister geestelike musiek, probeer ophou met jou sonde.  Jy is soos Cornelius en George Whitefield.  Hulle was opreg in hul soeke na God.  Maar hulle was ongered.  Whitefield het alles probeer om die Here te behaag.  Hy het growwe klere gedra en droë brood geëet.  Hy het gedurig gevas en in die woud gaan bid.  Hy het in die koue uitgegaan om homself te verloën en frost bite gekry.  Net die evangelie kan jou in ‘n regte stand voor God bring.  Eers dán kan jy deel wees van die kerk; eers dán is jy ingesluit.

 

Die evangelie (10:34-48)

God trek niemand voor op uiterlike gronde nie.  Die Jode word nie voorgetrek omdat hulle besny is nie.  God kyk na die hart (v.34-35).  Lukas sê nie in v.35 dat goeie werke ‘n mens red nie.  As dit so was dan was dit nie nodig dat Petrus die evangelie met Cornelius moes deel nie.

 

Petrus het ingespring:  ‘Jesus het ‘n boodskap van vrede kom preek – vrede tussen God en mens, asook tussen Jode en heidene [cf. Efesiërs 2:11-22].  By sy doop is Jesus met die Heilige Gees gesalf.  Die ‘salwing’ bewys dat Hy die Messias is:  Messias beteken immers ‘gesalfde’ [cf. Jesaja 61].  Jesus het krag ontvang om siekes te genees en duiwels uit te dryf.  Oral waar Hy gegaan het, het Hy goed gedoen.  Die apostels was ooggetuies van sy wonderwerke.  Jesus het ‘n vervloekte dood gesterf aan ‘n kruis [cf. Deuteronomium 21:22-23].  Op die derde dag na sy dood het God Hom uit die graf opgewek.  Weereens was die apostels ooggetuies van sy opstanding.  Die feit dat hulle ná sy opstanding saam met hom geëet en gedrink het bewys sy liggaamlike opstanding.  Jesus het die apostels gestuur om ‘n evangelie van bekering en vergifnis te preek.  Daar is ‘n oordeelsdag wat kom, maar God is bereid om elkeen wat glo te vergewe –ook heidene.  Die Ou Testament profete en Nuwe Testament apostels getuig almal van hierdie vergifnis.’ (v.36-43).

 

Terwyl die ‘onrein’ heidene na Petrus se boodskap luister, het die Heilige Gees soos reën op hulle geval.  Hy het hulle instaat gestel om ander lande se tale te praat.  Die Jode kon hulle oë en ore nie glo nie.  Die heidene se ondervinding was soortgelyk aan die Jode s’n in hoofstuk 2 (v.44-46).  Petrus het beveel dat die nuwe dissipels gedoop moes word.  Die doop van dissipels was immers deel van Jesus se laaste opdrag(Matteus 28:19).  Petrus het vir ‘n tydjie gebly om vir hulle die Bybel te leer (v.47-48).

 

Wat gebeur as iemand doodgaan, as hy God opreg gesoek het maar nooit die evangelie gehoor het nie?  Mense soos C.S. Lewis, Billy Graham en William P. Young (die outeur van The Shack) glo dat so iemand hemel toe gaan.  Maar hoe kan ‘n opregte Moslem of Hindu hemel toe gaan, as Johannes 14:6 sê dat niemand na die Vader toe kom behalwe deur Jesus nie?  Niemand kan sonder die evangelie gered word nie (Romeine 10:13-17).  ‘Maar wat van mense wat nie van God geweet het nie?’ vra iemand.  Almal weet God bestaan:  die skepping en hulle gewete sê dit vir hulle (Romeine 1:18-21, 2:14-15).  As iemand regtig die waarheid wil ken, sal die Here ‘n ‘Petrus’na hulle toe stuur.  Net as hulle hierdie evangelie glo is hulle ingesluit.

 

Die verslag (11:1-18)

Toe Petrus terugkom in Jerusalem het die Jode hom gekritiseer, omdat hy by ‘onrein’ heidene geëet het (v.1-3).  Petrus het vier argumente aangevoer om sy saak te verdedig:

 

[1] Jesus het in ‘n visioen vir hom gewys om nie te sê dat dit wat God rein gemaak het, onrein is nie (v.4-10).

 

[2] Die Heilige Gees het vir hom gesê om saam met die heiden te gaan (v.11-12).

 

[3] Die engel het vir Corneluis gesê dat Petrus soontoe moes kom (v.13-14).

 

[4] Toe die heidene die evangelie glo het hulle die Heilige Gees ontvang (v.15-17).

 

Skielik het die Jode se kritiek in lofprysing verander.  Hulle het die Here geloof, omdat Hy bekering en die ewige lewe aan die heidene geskenk het (v.18, cf. 5:31).

 

Ons mag nie enige Christen op grond van uiterlike kriteria by die kerk uitsluit nie.  Sommige denominasies en gemeentes weier om swart Christene in hulle midde te verwelkom.  ‘n Predikant wat ek ken het gesê:  ‘Ek sal nie ‘n k#&$!@r in my kerk toelaat nie!’  Wat sal jy doen as ‘n Zulu Christen wat goed Afrikaans kan praat, by ons/julle gemeente wil aansluit?

 

  • Sal jy vra dat daar eers ‘n vergadering gehou moet word?
  • Sal jy wil hê dat daar ‘n paar ekstra vereistes vir lidmaatskap moet wees?
  • Sal jy sê hy of sy kan ‘n lidmaat word, maar nie ‘n ouderling of diaken nie: hulle mag nie met die geld werk, kos aan die armes versprei, of die vrouebediening lei nie?
  • Sal jy en jou kinders wegbly as hy preek of ‘n Bybelstudie lei; as sy Sondagskool gee?
  • Sy jy ophou om die nagmaalbeker te gebruik as hy daaruit drink?
  • Sy jy hom as lidmaat aanvaar, maar apart sit by gemeente etes; apart staan by tee?
  • Sal jy verleë voel as hy jou in die hospitaal kom besoek?
  • Sal jy uiteindelik die kerk verlaat en jou kinders uit die Sondagskool neem as die gemeente 70% swart en 30% wit is?
  • Laat sulke vrae jou ongemaklik voel?
  • Sê jy in jou gedagtes: ‘Ja, maar…’?

 

Jy moet jou van jou sonde bekeer.  Jy kan nie mense uitsluit as God hulle insluit, regverdig, aanneem, en vergewe nie:  “As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?” (v.17).

 

Is jy moeg vir die kwota sisteem in ons land?  Hierdie week het die koerant opskrif gesê dat ons krieketspan ten minste vyf ‘gekleurde’ spelers moet hê.  Ons sal seker saamstem dat die beste spelers in die span moet wees – al is almal swart.  Laat ons nie hierdie euwel, die kwota sisteem, in die kerk inbring nie.  Moenie mense wat Bybels diskwalifiseer insluit nie.  En moenie mense wat Bybels kwalifiseer uitsluit nie.

Waar het nasies en tale begin?

Nations

‘n Tydjie gelede het ‘n ek en twee ander mans gesels oor die oorsprong van velkleure, oë, en neuse in verskillende nasies.  ‘Hoe het dit begin?’ het ons gevra.  Genesis 10:1-11:9 gee die antwoord.

 

Nasies (Genesis 10)

Sommige van die name in hierdie hoofstuk is vaag.  Kommentators verskil oor waar party van die plekke is.  As jy ‘n volledige verduideliking van hierdie name wil hê, kan jy creation.com besoek en ‘The sixteen grandsons of Noah’ lees.

 

[i] Jafet (v.2-5) se nageslag het versprei na Turkye, Wallis, Frankryk, Armenië, Ukraïne, Iran, Griekeland, Spanje, Siprus, Rodus, Rusland en Joego-Slawië.  Hoe weet ons dit?  Die naam Jawan (v.2) is die Hebreeuse woord vir Griekeland (Joël 3:6).  Madai (v.2) het later Medië geword.  Die moderne naam vir Medo-Persië is Iran.  Josefus sê dat die Galasië-streek in Turkye die antieke Gomer is (v.2).  Die Galliërs (Eng. ‘Gauls’ – Asterix en Obelix vir die wat nie weet nie) het later Frankryk toe getrek.  Van Frankryk af het hulle Wallis toe getrek.  Die Walliese taal word vandag nog Cymraeg of Gomeraeg genoem.

 

So kan ons een vir een deur die name werk en wys waar hierdie groepe heen versprei het.  ‘n Klompie van die gebiede in v.2-4 is eilande of kuslande.  Daarom sê v.5:  “uit hulle het verdeeld geraak die kuslande van die nasies, in hulle lande, elkeen na sy taal, volgens hulle geslagte, in hulle nasies.”  Van hierdie streke sê die Psalm 72:10:  “Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied [vir die Messias]”.  In Jesaja 49:1 sê die Messias:  “Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is!”  In 42:12 sê die profeet:  “Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!”  Die heidene sal voor Jesus buig.  En ’n klomp van hulle sal teen Hom rebelleer:  “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog (Genesis 10:2), om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.  En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.” (Openbaring 20:7-9).

 

[ii] Gam (v.6-20) se nageslag het versprei na Etiopië, Egipte, Libië, Palestina, Jemen en Irak.  Hoe weet ons dit?  Misraim (v.6) is die Hebreeuse woord vir Egipte (50:11).  Kus (v.6) is die Bybelse naam vir Etiopië (Esegiël 29:10).  Skeba (v.7) word algemeen erken as Jemen (die koninging van Skeba het in 1 Konings 10 vir Salomo besoek).  Die konings van Skeba sal voor Jesus buig (Psalm 72:10).  Ek kan nog voorbeelde noem om die punt te bewys, maar ek glo drie is genoeg.

Table of nations

Nimrod was een van Kus se seuns.  Sy naam beteken ‘rebellie’.  Hy het Babel begin bou, maar misluk (v.10, hfst.11).  Hy het aanbeweeg om Nineve en ander groot stede te bou (v.11-12).  Hy was ‘n geweldadige man en ‘n dapper jagter (v.8-9).  Gam se vierde oudste seun was Kanaän.  Ons weet wie sý nageslag was (v.15-18).  Die Kanaäniete se grens het gestrek van Sidon aan die noordkus van Israel tot by Gasa aan die suidkus.  Vandaar het die grens na die binneland toe gestrek tot by Sodom, Gomorra en drie ander stede suid van die Dooie See (v.19).

 

[iii] Sem (v.21-31) was die oudste seun van Noag (v.21).  Sy kleinseun Eber se kinders is gereken as sy eie (v.21).  Die naam Eber is baie nou verbind aan die naam ‘Hebreër’ in 14:13.  Die skrywer skep afwagting, omdat die Hebreërs uiteindelik God se uitverkore volk word.  Die nageslag van Sem het versprei na Iran, Saudi-Arabië, Jemen, Turkye en Sirië.  Twee voorbeelde is voldoende.  Aram (v.22) is ‘n ander naam vir Sirië (2 Samuel 8:6).  Sana’a, die hoofstad van Jemen, staan ook bekend as Azal.  Die naam is ‘n verbuiging van Usal (v.27).

 

Alle nasies het ontstaan uit Noag en sy seuns (v.1, 32).  Ons kan dan nie roem asof ons nasie beter is as ander nie.  ‘Maar hoekom is die nasies dan so verskillend wanneer dit by velkleur, neuse en oë kom?’ vra iemand.  Die inligting vir ligte en donker velle was in Noag, sy seuns en hulle vroue se DNA.  Mense met ligte velle sou wegtrek uit warm kontinente soos Afrika.  Hulle sou gemakliker aard in noord-Europese lande.  Mense met donker velle sou nie in koue gebiede aard nie.  Hulle het vitamien D nodig, en daarom sou hulle na warmer areas toe getrek het.  Mense in warm areas sou ook groter neusgate ontwikkel om meer suurstof in te neem.  Chinese het kleiner oë as westerlinge.  Hoekom?  Daar is ‘n ligament wat hulle oog ‘toe’ hou.  Alle babas word hiermee gebore, maar op ses maande skeur dit los.  Chinese se ligament skeur nie los nie.  Hulle het ook ‘n dubbel vetlaag bo die oog (westerlinge het ‘n enkel vetlaag).  Kleiner oë sou perfek werk in sneeustorms en sonstrale wat van die sneeu af weerkaats.

 

Geen mens is beter as ‘n ander as gevolg van sy velkleur, of die vorm van sy neus en oë nie.  As ons dan almal dieselfde oorsprong het, mag mense uit verskillende nasies met mekaar trou.  Die enigste verbod wat die Here stel, is dat Christene nie met ongelowiges mag trou nie (1 Korintiërs 7:39).  Wat jou anders maak is nie jou gelaatstrekke nie, maar God se genade.  God het vir die Israeliete gesê:  “Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.  Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:7-8).  Moenie in jouself roem nie.  Vergeet van jou Afrikaner trots en roem in die Here wat nasies se grense bepaal het, en wat lande gee aan wie Hy (v.19, 30).  “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:26).  Uiteindelik sal alle lande en nasies in elk geval onder Jesus se bewind wees:  “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Psalm 72:8).

 

Tale (Genesis 11)

Hoofstuk 11 gebeur nie ná nie, maar týdens hoofstuk 10:  “En vir Heber is twee seuns gebore; die naam van die een was Peleg, want in sy dae het die aardbewoners verdeeld geraak” (10:25).  Die mense het almal een taal gepraat (v.1).  In 9:1 het God hulle beveel om oor die aarde te versprei.  Hulle wou nie, en het in die laagte van Sinear (in Babilon of moderne Iran, Daniël 1:2) halt geroep (v.2).  Hier het Nimrod sy koninkryk opgerig (10:10).  Daar was nie genoeg bouklippe op hierdie plein nie.  Hulle moes hulle eie stene bak en teer gebruik om dit bymekaar te hou (v.2-3).  Hulle besluit om ‘n stad met ‘n hoë toring te bou – tot by die hemel (v.4).  Hulle wou soos God wees (3:5, Jesaja 14:14).  Hulle wou ander beïndruk en so vir hulleself ‘n naam maak.  Hulle uitmuntende argitektuur sou ander laat vrees.  Niemand sou hulle aanval en hulle uitmekaar dryf nie (v.4)… of so het hulle gedink.  God moes ‘afkom’ om hulle klein torinkie, doer ver, onder op die aarde te sien (v.5).  God het geweet dat die mens vinnig sou vorder as hulle hul kragte kon saamspan en koppe bymekaarsit (v.6).  Deur hulle tale te verwar (‘Babel’) het God die ‘onaantasbare’ mens sonder moeite oor die aarde verstrooi (v.7-9).

 

Ons is nogsteeds soos die mense in Genesis 11.  Ons wil kyk wie die hoogste toring kan bou.  Ons soek bittergraag ons name in die Guinness Book of Records vir die langste, vinnigste of sterkste.  Ons dagdroom oor hoe ander mense ons prys.  Die Here waarsku:  “En sou jy vir jou groot dinge soek?  Soek dit nie” (Jeremia 45:5).

 

Moenie so naïef wees om te dink dat Afrikaans die beste of hemelse taal is nie.  Moenie ‘n hoogmoedige Afrikaner wees wat weier om Engels te praat met die kelner of petroljoggie nie (behalwe as jy regtig nie Engels kánpraat nie).  Soek eerder eenheid met mense van ander tale en nasies.  Hierdie eenheid sal jy net in Jesus vind.  Jesus het immers gesterf, “nie alleen vir die volk [Israel] nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot ‘n eenheid saam te voeg.” (Johannes 11:52).  In Genesis 11 laat God die mense in tale praat om hulle te verdeel.  In Handelinge 2:1-13 laat God mense in ander tale praat om hulle in Christus te verenig.  In die hemel sal mense uit alle nasies en tale volkome een wees in Jesus:  “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9).  Dis nie ons nasie of kultuur wat ons ander maak as die res van die wêreld nie, maar ons Christen kultuur.  Ons is burgers van die hemel.  Ons denke, woorde en dade verskil van die wêreld s’n (Filippense 3:20-4:9).  Moenie jou eie kop volg (‘n toring bou) om die hemel te bereik nie.  Jesus alleen verbind hemel en aarde met mekaar.

 

Ek het vir my Amerikaanse vriend gevra:  ‘Wat is positief en negatief van die Afrikaanse kultuur?’  Hy het ‘n klompie positiewe dinge genoem.  Sy grootste negatief was dit:  rassisme.  Maar as evolusie waar is, dan is daar plek vir rassisme (sekere nasies het verder gevorder in die evolusie-proses as ander).  Maar as Genesis 10-11 waar is (alle nasies en tale het dieselfde oorsprong) moet rassisme sterf en nooit weer opgewek word nie.