Menswaardigheid in die Bybel en vandag

Slave

‘n Groep soldate in Sierra Leone het ‘n swanger vrou op ‘n afstand sien aankom.  Hulle het ‘n wettenskap geneem of die baba ‘n seun of ‘n dogter was.  Toe die vrou nader kom het hulle haar oopgesny om te sien wie reg was, en haar gelos om dood te bloei.

 

Dit is walglik… as jy glo dat die mens na God se beeld gemaak is.  Maar as evolusie waar is, dan is daar geen verskil tussen dié gruwelike daad, en ‘n man wat ‘n lemoen oopsny en die pitte tel nie.  Beide die swanger vrou en die lemoen is die produk van toeval en evolusie.  Net as die mens na God se beeld gemaak is, beteken menswaardigheid iets.

 

Slawe en slavinne (v.1-11)

In 1787 het William Wilberforce ‘n mosie ingedien teen slawehandel.  Die Britse Parlement het teen dié mosie geveg.  Die slawe arbeid in Wes-Indië was voordelig vir Brittanje se ekonomie.  Die parlement was ontevrede met Wilberforce se mosie.  Party het hom selfs met die dood gedreig.  Baie van sy vriende het hom verlaat.

 

Na 20 jaar het Wilberforce uiteindelik in 1807 die saak gewen.  Slawehandel was onwettig.  Om slawe te besit was egter nie onwettig nie.  Wilberforce sou nie opgee nie.  Hy het vir nog 26 jaar geveg om slawerny uit te wis.  Drie dae voor sy dood in 1833, het hy gewen.  Slawerny was eens en vir altyd verban in Britse Kolonies.[1]

 

Hoekom sê Eksodus 21 nie dieselfde nie:  slawerny is geheel en al verbode?  Verse 1-11 praat van iemand wat homself as ‘n slaaf verkoop (22:3, Deuteronomium 15:12).  Vers 16 is teen slawerny soos wat Wilberforce dit geken het.

 

Volgens Eksodus 21 moet slawe met menswaardigheid behandel word; as mense wat na die beeld van God gemaak is.  Sodra jy dít doen, sterf die sisteem ‘n natuurlike dood.

 

Die Israeliete moes onthou dat hulle slawe was in Egipte.  Derhalwe moes hulle goed en gaaf wees met hulle Hebreeuse slawe.  Na sewe jaar moes hulle hul broers kosteloos bevry, en met groot rykdom wegstuur (v.2, Levitikus 25:35-46, Deuteronomium 15:12-18).

 

Die baas moes sy slaaf vrylaat soos wat hy gekom het:  enkel of getroud (v.3).  As sy baas vir hom ‘n vrou gegee het, moes hy sy vrou en kinders agterlaat (v.4).  As ‘n slaaf sy baas, vrou, en kinders liefgehad het, kon hy besluit om te bly (v.5).  In so ‘n geval moes die slaaf saam met sy baas in die stadspoort kom voor die regters (v.6, vgl. Psalm 82).  Sy baas het ‘n els (‘n skerp ysterpen) gevat en ‘n gat deur sy oor geboor.  Die ‘oop oor’ het gesimboliseer dat hy altyd vir sy baas sou luister (Jesus se oor was oop vir sy Vader; sý oor is deurboor [Psalm 40:7, Jesaja 50:4-5].  Deur sý gehoorsaamheid het daar vir ons redding gekom [Filippense 2:8]).

 

As ‘n pa arm raak en nie meer vir sy dogter kan sorg nie, dan mag hy haar as ‘n slaaf verkoop (v.7, Nehemia 5:5).  Só kan sy onder iemand anders se sorg kom.  Omdat vroue in daardie tyd nie vir hulleself kon sorg nie, mag ‘n slavin nie soos ‘n manslaaf vry raak nie (v.7).  As haar baas met haar trou, maar sy hom later nie meer tevrede stel nie, mag hy haar nie weerloos laat of aan die buiteland verkoop nie (v.8).  Haar pa kan haar terugkoop (as hy daartoe instaat is).  Anders kan ‘n nuwe baas haar vir homself koop en haar versorg (v.8).

 

As ‘n man die slavin koop om met sy seun te trou, moet sy vir hom soos ‘n dogter wees (v.9).  As die baas met haar trou en later nog ‘n vrou vat, moet hy nogsteeds sy slavin versorg en haar huweliksregte vir haar gee (v.10, vgl. 1 Korintiërs 7:3, 5).  Indien hy dit nie doen nie, moet hy haar kosteloos vrylaat.  Haar pa of nuwe baas hoef nie ‘n losprys te betaal nie (v.11).

 

Behandel die mense wat onder jou is met menswaardigheid (MW).  Hoe lyk dit in die praktyk?  MW beteken jy sorg goed vir die mense wat vir jou werk (by die huis of by die werk).  Moenie jou werkers so min as moontlik betaal nie.  Moenie laat hulle vir 13 of 14 werk nie.  Die Skrif sê:  “Betoon reg en billikheid, here, aan julle diensknegte, omdat julle weet dat julle ook ‘n Here in die hemele het.” (Kolossense 4:1).

 

Sommige regse Afrikaners glo dat swartes nie siele het nie, en dat hulle nie in die hemel sal wees nie.  In die 1700’s het baie slawe-eienaars geglo dat slawe nie siele het nie.  MW beteken dat slawe en swartes na God se beeld gemaak is, siele het, en in die hemel sal wees.  MW beteken jy deel die evangelie met dié wat die minste is in die samelewing (slawe).  MW beteken elke mens is na God se beeld geskep en kom nie van ape af soos wat evolusie sê nie.

 

MW beteken jy het respek vir vroue (v.7-11):

 

  • Laat haar eerste by die deur instap.
  • Beskerm haar teen gevaar.
  • Help haar as sy swaar dra.
  • Moet haar nie verbaal, emosioneel of fisies boelie nie.
  • Moenie met gevoude hande toekyk hoe sy ‘n man se werk doen nie (bv. hout kap).
  • Leer jou seuns om respek te hê vir meisies en vroue.

 

Moord en manslag (v.12-14)

‘n Misdadiger in Los Angeles het die doodstraf gekry.  Winnie Mandela het vir Arnold Schwartzenegger gevra om nie die doodstraf te gee nie.  Sy het gesê dat die doodstraf tydens apartheid baie trane en skade veroorsaak het.  Schwartzenegger het haar geïgnoreer en die man tereggestel.  So het hy gewys dat die mens se lewe waardig is.  Jy kan nie sommer net iemand soos ‘n muskiet doodmaak nie.  As jy ‘n mens doodmaak, sal jou lewe geneem word.

 

God vereis die doodstraf vir moord (v.12, 14).  Die Skrif sê:  “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.” (Genesis 9:6).  “Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy [die regering] dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.” (Romeine 13:4).  “almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.” (Matteus 26:52).

 

God vereis nie die dood vir manslag nie.  As jy per ongeluk iemand doodmaak, het God dit so beskik (v.13).  In dié geval kan jy na ‘n vestingstad toe vlug (v.13, Deuteronomium 19:4-5, Numeri 35, Joshua 20).  As jy egter kwaadwillig en moedswillig was, is dit moord.  In so ‘n geval is jy nie eers veilig by die altaar nie (v.14, 1 Konings 2:28-34).

 

Jy moet respek hê vir die mens se lewe.  MW beteken dat jy die doodstraf voorstaan vir ernstige oortredings soos moord.  MW beteken jy glo nie in onregverdige doodstraf soos in Islam, waar Christene doodgemaak word as hulle kerk hou of evangelisasie doen nie.  MW beteken jy glo nie in doodstraf vir kleiner misdade soos diefstal nie.  MW beteken jy ken die verskil tussen onmenslike marteling en waardige doodstraf.

 

MW beteken jy straf nie iemand vir manslag soos vir moord nie.  Jy laat nie die moordenaar vrykom vir omkoopgeld nie, en jy straf nie die man wat die gewapende en geweldadige inbreker skiet om sy gesin te beskerm nie (v.13).  MW beteken jy neem nie self wraak nie, maar laat die straf oor aan God en die regering wat Hy daargestel het (Matteus 5:38).  MW beteken jy behandel ‘n dooie mens se liggaam met respek, en gooi dit nie in die veld nie soos ‘n rot wat gevrek het nie.

 

Ouers en ontvoering (v.15-17)

Toe ek op skool was, het ‘n vrou wat in die straat op gebly het onsteld en in trane by ons huis aangekom.  Haar 18-jarige broer het haar en haar ma geslaan.  Ek wonder hoeveel kinders doostraf sou kry as v.15, 17 in ons dag nog van krag was (v.5, 17, 20:12)?  As jy teen jou ouers rebelleer, is dit omdat jy rebels is teen God se gesag.

 

Dit is nie ‘n probleem as ‘n arm man homself as ‘n slaaf verkoop nie.  Om egter mense te steel of te koop verdien die doodstraf (v.16, Genesis 37, Deuteronomium 24:7).  In hierdie geval is die deler so goed soos die steler.

 

Wys respek vir jou ouers.  Moenie mense steel nie.  MW beteken jy verhef nie ‘n kind se regte, sodat hy onaantasbaar is nie.  Dit hoort nie so dat die kind sy ouer of onderwyser kan behandel soos wat hy wil, sonder dat daar gevolge is nie (v.15, 17).  MW beteken jy glo nie dat pakslae sleg is vir ‘n kind se MW nie.  Jy beskou pakslae as ‘n hulp:  jy slaan omdat jy nie wil hê MW moet in die toekoms ten gronde gaan nie.  Jy weet dat rebelse kinders binnekort rebelse jongmense sal wees wat soos diere optree.

 

MW beteken jy slaan nie ‘n kind soos ‘n dier nie (v.20).  Jy beskou pakslae eerder as ‘n liefdvolle maatreël om die kind reg te help.  MW beteken jy gee nie vir ‘n stoute kind Ritalin omdat hy ‘siek’ is nie; jy gee vir hom pak omdat hy sonde doen.  MW beteken jy besef dat Ritalin jou kind soos ‘n zombie laat ronddwaal, en verneder hom tot die vlak van ‘n mal mens of ‘n irrasionele dier.  John Stott en C.S. Lewis sê:

 

‘To say that somebody “is not responsible for his actions” is to demean him or her as a human being.  It is part of the glory of being human that we are held responsible for our actions.’[2]

 

‘To be “cured” against one’s will, and cured of states which we may not regard as disease, is to be put on a level with those who have not yet reached the age of reason or those who never will; to be classed with infants, imbeciles, and domestic animals.  But to be punished, however severely, because we have deserved it, because we “ought to have known better”, is to be treated as a human person made in God’s image.’[3]

 

MW beteken jy ontken nie dat daar ‘n rangorde in die samelewing is nie.  Jy sê nie ‘diskriminasie!’ vir sulke rangordes nie.  MW beteken jy erken dat kinders hulle ouers en onderwysers moet eer.

 

MW beteken jy glo ontvoering of ‘human trafficking’ onteer die mens, en moet hard gestraf word (v.16).  Jy kan nie met mense handel soos met beeste nie.

 

Beserings en betaling (v.18-27)

‘n Ou man in my skoonma se kerk het rustig op die pad gery toe ‘n dronk man sy humeur verloor het, hom van die pad afgedruk het, uit sy kar geklim het, en die ou man geslaan het.  Die ou man is dood na ‘n kort rukkie in die hospitaal.  Eksodus 21 het reëls vir dié tipe situasies.

 

Gestel twee mans stry en raak in ‘n vuisgeveg betrokke.  Die een beland op ‘n siekbed (v.18).  As die man gesond word en met sy kruk buite loop, moet die ander man die sieke se verlore salaris en mediese onkostes betaal (v.18-19).  As die sieke egter vir ‘n ruk in die bed lê en dán doodgaan, moet die skuldige die doodstraf kry.

 

Ander reëls geld vir slawe, omdat sy baas hom met ‘n rottang mág straf.  As die slaaf egter onder die houe sterf, moet sy baas die doodstraf kry (v.20, 12, 14).  As hy vir ‘n ruk oorleef, is dit duidelik dat die baas hom nie wóú doodslaan nie.  Dié baas is skuldig aan manslag en kry nie die doodstraf nie.  Die verlies van ‘n slaaf beteken hy verloor geld.  Dit is genoeg straf (v.21).  Dis soos ‘n ongehoorsame kind wat seerkry.  Die seerkry is straf genoeg; dis nie nog nodig vir ‘n pak ook nie.

 

Gestel twee mans slaan vuis en slaan per ongeluk ‘n swanger vrou, sodat die baba uitkom.  As die kind nie beseer is nie, moet die vrou se man die oortreder dagvaar.  Die regters moet hom beboet, om hom daardeur te waarsku om versigtig te wees in die toekoms (v.22).  As die baba seergekry het of sterf (dalk omdat die kind vroeg gebore is?), is dit ‘n lewe vir ‘n lewe, ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ens. (v.23-25).  God is reverdig en sal toesien dat die misdaad en die straf bymekaar pas.

 

As ‘n baas sy slaaf se oog of tand uitslaan, moet die slaaf vrygelaat word (v.26-27).  Die baas hoef nie sy oog of tand te verloor nie, want as jy ‘n slaaf straf bestaan die risiko dat hy sy oog of tand verloor.

 

Moenie jou naaste se lewe bedreig of sy liggaam beskadig nie.  MW beteken jy sê nie ‘n mens sleg soos ‘n hond nie (v.18, Jakobus 3:9).  MW beteken jy wys selfs respek vir jou vyand (v.19).  “As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit sekerlik vir hom terugbring.  As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie:  jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai.” (23:4-5).

 

MW beteken jy bevorder jou naaste se gesondheid (v.19).  Dit impliseer onder andere dat jy nie rondom mense rook wat nie graag jou nikotien wil inasem nie.  MW beteken jy dink aan die gevolge voor jy sommer net iemand met die vuis bydam (v.18).

 

MW beteken jy het respek vir swanger vroue (v.22).  Staan op in ‘n vol bus of trein, sodat die swanger vrou kan sit.  Laat ‘n swanger vrou voor jou in die ry staan by die bank of in die winkel.

 

MW beteken jy haat aborsie; jy vermoor nie ‘n mens net omdat hy klein is nie (v.22-25).  MW beteken jy maak nie ‘n baba dood vir jóú sonde en foute nie.  MW beteken jy vermoor nie ‘n gestremde baba nie (v.24).  MW beteken jy veg vir dié wat nie vir hulleself kan veg nie (v.22-24, Spreuke 24:11-12, 31:8).  MW beteken jy sal aandring dat die doodstraf toegepas word ook vir aborsie (v.23).  ‘n Bangladeshi man het vir my gesê dat aborsie in sy land met die dood gestraf word.

 

Diere en doodstraf (v.28-32)

‘n Paar jaar gelede het ‘n pitbull ‘n kind by ‘n veearts kliniek in Kempton Park gebyt.  Die veearts het dadelik die hond uitgesit.  Volgens die Skrif is dit hoe dit hoort, want die mens se lewe is waardig.

 

As ‘n bees ‘n man of vrou doodmaak, moet die bees gestenig word (v.28).  Die Skrif sê:  “Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis:  van al die diere sal Ek dit eis.” (Genesis 9:5).  Jy mag nie die dooie bees se vleis eet nie, en die eienaar is onskuldig (v.28).

 

Wat as die bees al voorheen mense gegaffel het, en die baas dit geweet het maar niks daaraan gedoen  het nie?  Die bees én sy eienaar moet sterf (v.29).  Omdat dit nie direk moord was nie, kan iemand die eienaar loskoop volgens die prys wat die regters bepaal (v.30, kontr. Numeri 35:31-32).

 

Die reëls van v.28-30 geld ook as ‘n bees ‘n seun of dogter doodmaak (v.31).  Die bees moet ook sterf as dit ‘n slaaf doodmaak (v.32).  Dit wys weereens dat slawe na God se beeld gemaak is.  Die bees se eienaar moet vir die slaaf se baas 30 stukke silwer gee om ‘n nuwe slaaf te koop (v.32, vgl. Matteus 26:15).  Omdat slawe soms met beeste werk, bestaan die risiko dat hulle doodgemaak kan word.

 

Ons moet menswaardigheid se verhouding tot diere in ‘n regte lig beskou.  Hoe is dit?  MW beteken ons straf diere wat ‘n mens se lewe neem:  skiet die olifant, leeu, hond, of bees.  MW beteken jy tref voorsorg, sodat jou dier nie onnodig ‘n mens doodmaak nie (v.29):  sluit jou kwaai honde weg, sit elektriese heinings om jou plaas as daar leeus is, sit borde op wat mense teen gevaarlike diere waarsku.  MW beteken jy straf mense wat nalatig is met hulle gevaarlike diere (v.29).  MW beteken jy ag nie diere hoër as mense nie (v.28-32):  jy straf nie mense wat klappers naby honde skiet, maar maak aborsie wettig nie.

 

Peter Singer is ‘n bekende ateïs.  Volgens hom is ou mense en gestremdes ‘n las vir die samelewing.  Hy sê dat ‘n gesonde vark meer reg het om te lewe as hulle.  Hy het geen gewetensbeswaar as hulle doodgemaak word nie.  Ander mense in ons tyd maak ‘n afgod van MW.  Hulle glo dis hulle rég om gay te wees.  Hulle verskoon moord, dronkenskap, pedofilia, en rebelsheid as ‘n ‘siekte’.

 

Sonde laat mense so redeneer.  Die wêreld kan nie MW reg verstaan nie.  Eers as jy gered is en die Skrif gehoorsaam, kan jy MW in reg verstaan.

[1] John Piper, The Roots of Endurance, pp.129-132

[2] John Stott, The Cross of Christ, p.120

[3] Ibid

Advertisements

Weerstand teen God

Opposing God

Elke gesoute hengelaar weet dat ‘n lyn met 20kg breekkrag maklik ‘n 15kg vis kan weerstaan.  Maar dieselfde lyn sal soos dun gare breek as ‘n 400kg vis dit vat.  Net so kan ‘n mens ander mense weerstaan.  Geen mens kan egter in ‘n finale sin teen die Almagtige God weerstand bied nie.  Eksodus 6:9-7:13 maak dit duidelik.

 

Moses

Alhoewel Benjamin Franklin nie ‘n gelowige was nie, het hy dit geniet om na George Whitefield se prediking te luister.  In 1740 het Whitefield in Georgia gepreek.  Hy wou ‘n weeshuis in Georgia oopmaak en het beplan om ná die preek ‘n offergawe op te neem.  Franklin het sy idee ondersteun, maar omdat hulle arbeiders en materiaal uit Philadelphia moes huur, het hy voorgestel dat hulle die weeshuis dáár moes bou.  Omdat Whitefield sy raad geïgnoreer het, het Franklink geweier om die projek te ondersteun.  Hy skryf:

 

‘I silently resolved he [Whitefield] should get nothing from me.  I had in my pocket a handful of copper money, three or four silver dollars, and five pistoles in gold.  As he proceeded [his sermon] I began to soften, and concluded to give the coppers.  Another stroke of his oratory made me ashamed of that, and determined me to give the silver; and he finished so admirably that I emptied my pocket wholly into the collector’s dish, gold and all.

 

At this sermon there was also one of our club, who, being of my sentiments respecting the building in Georgia, and suspecting a collection might be intended, had by precaution emptied his pockets before he came from home.  Towards the conclusion of the discourse, however, he felt a strong desire to give, and applied [asked] to a neighbour who stood near him, to borrow some money for the purpose.’[1]

 

God kan enige weerstand oorkom.  Toe God vir Moses na Farao toe gestuur het, het Moses Hom weerstaan.  Hy het gesê:  ‘As God se volk nie eers na my wil luister nie, hoe sal ‘n goddelose koning na my luister?  Ek mag miskien besny wees, maar my lippe is onbesnede en onrein; ek is onbekwaam om te praat (sien 6:9-12, vgl. 4:10, Jesaja 6:5).’  God was geduldig met Moses en het hom gemotiveer om te gaan:  “Ek is die HERE.  Sê aan Farao, die koning van Egipte, alles wat Ek met jou spreek.  Toe sê Moses voor die aangesig van die HERE:  Ek is onbesnede van lippe!  Hoe sal Farao dan na my luister?” (6:28-29).  Die Here het in 6:28-7:6 basies vir hom gesê:

 

‘Wie jý is maak nie saak nie, maar wie Ék is (2 Korintiërs 2:16, 3:5).  Ek sal jou instaat stel om te praat.  Ek sal jou soos God maak voor Farao.  Hy dink hy is ‘n god, maar nou sal Hy met die ware God te doen kry.  Jy moet My verteenwoordig.  Aäron sal my geïnspireerde woorde namens jou praat; hy sal jou profeet wees (4:16).  Moenie bekommer as Farao nie wil luister nie.  Ek sal sy hart verhard, sodat hy nie luister nie (4:21).  Ek sal jou instaat stel om wonders te doen.  Deur dié plae sal ek Egipte oordeel en my volk red.’  Moses en Aäron het toe gedoen wat God gesê het.  Moses was 80 en Aäron 83 toe God hulle na Farao toe gestuur het.  Hulle was nie te oud vir God om hulle te gebruik nie.

 

Moenie die Here weerstaan nie.  Soos Moses is daar vandag gelowiges wat die Here weerstaan.  Weerstaan jy God se roeping om ‘n sendeling of predikant te word?  Skop jy teen sy opdrag dat jy gedoop moet word of lidmaat van ‘n gemeente moet word?  Het jy weggedwaal en weerstaan jy sy roepstem dat jy jou moet bekeer?  Het jy gebroke verhoudings?  Jou gewete sê dat jy dit moet regmaak, maar jy weier; jy weerstaan die Here.  Is daar ‘n spesifieke sonde waaroor die Here met jou praat, maar jy wil dit net nie los nie?  Of dalk iets wat jy nalaat om te doen, maar jy hou aan om dit uit te stel?  Dalk ‘n spesifieke opdrag in die Bybel wat jy weerstaan?  Is daar ‘n leerstelling in die Bybel wat jy weerstaan en nie wil aanvaar nie?  Weerstaan jy God se dissipline?  Jy is nie nederig onder God se swaar hand nie; jy skop teen Hom en is ongeduldig (1 Petrus 5:6).  Maak jy jou gewete aanhoudend stil oor iets wat jou pla?

 

God wil hê jy moet erns maak om sy wil te ken (Efesiërs 5:17).  As jy weet dat iets in jou lewe nie reg is nie, sê Psalm 119:59-60 vir jou wat om te doen:  “Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse.  Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.”  Die Here het jou gemaak en gered.  Daarom moet jy nie aanhou om Hom te weerstaan nie.  “Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?” (Jakobus 4:5, NAV).  “Of wil ons die ywer van die Here opwek?  Is ons miskien sterker as Hy?” (1 Korintiërs 10:22).  Moenie sê dat jy nie dinge wat verkeerd is kan regmaak nie.  “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Filippense 4:13).

 

Israel

Laasjaar het ek by ‘n rugby oefening gesien hoe ‘n ma vir haar graad R seun ‘n opdrag gee.  Terwyl hy na sy maatjie toe hardloop, sê hy vir sy ma:  ‘Wag!’  Sy het op hom geskreeu, maar hy het weggehardloop, en met sy hand vir haar gewys:  ‘Voetsek!’  Vandat die mens in sonde geval het, is daar ‘n rebelsheid in sy hart; ‘n begeerte om die juk van God se gesag van sy nek af te gooi.  Die mens wil onafhanklik wees.

 

Van die begin af het die Israeliete Moses se leierskap weerstaan (2:14).  Die geslagsregister in 6:13-26 is gegee, sodat die eerste lesers (die Israeliete in die woestyn) kon sien dat Moses en Aäron uit die stam van Levi kom.  Moses het homself nie as leier en Aäron homself nie as priester aangestel nie.  God het hulle uitgekies.  In hfst.15-17 het die volk teen Moses se leierskap in opstand gekom.  In Numeri 11, 14 het hulle dit weer gedoen.  In Numeri 12 het sy eie broer en suster sy leierskap teëgegaan.  In Numeri 16 het Korag vir Moses teengestaan.  ‘Wie het jóú gekies om ‘n priester te wees?  Ons is uit die stam van Levi en het ook die reg om priesters te wees!’  In Numeri 17 wys God dat Hy vir Levi gekies het om in die tabernakel te werk; dat Aäron en sy seuns gekies is om priesters te wees.  Die eerste lesers kon uit 6:13-26 Moses en Aäron se bloedlyn deur Amram en Kehat na Levi, en uiteindelik na Jakob toe teruglei.

 

Die geslagsregister begin met Jakob se oudste drie seuns.  Levi, Kehat en Amram se ouderdomme word gegee om te wys dat God se woord aan Abram vervul is:  Die Israeliete sou vir omtrent 400 jaar slawe in Egipte gewees het (Genesis 15:13).

 

Levi sterf op 137

Kehat sterf op 133

Amram sterf op 137

Aäron was 83 op dié tydstip (7:7)

_________________

Totaal:  490 jaar

 

As Levi, Kehat en Amram elkeen 20 was toe hulle seuns gebore is, dan was die Israeliete vir 430 jaar in Egipte.  In 12:40-41 lees ons:  “En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vier honderd en dertig jaar.  En ná verloop van vier honderd en dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek.”

 

Om dan op te som kan ons sê dat die volgende persone uit dié nageslag ontstaan het:

 

  • Die Leviete (6:15, Numeri 3, 17, 26:57).
  • Moses en Aäron (6:19, 25-26).
  • Nagson, ‘n prins en voorvader van Jesus, was Aäron se swaer (6:22, 1 Kronieke 2:10, Matteus 1:4).
  • Die priesters (6:22, 28:1, Levitikus 10:1).
  • Pinehas, Aäron se kleinseun wat hoëpriester geword het en ywerig was vir die Here (6:24, Numeri 25:6-12).

 

Nie alleen die geslagsregister nie, maar ook die wonderteken wat Moses in hfst.7 gedoen het, sou vir die eerste lesers ‘n bewys wees dat God hom gestuur het (vgl. Numeri 16:28-30).

 

Moenie soos die Israeliete wees en die gesag wat God daargestel het, weerstaan nie.  Moenie jou ouers, man, ouderlinge, baas, regering, polisie, of onderwysers se gesag weerstaan nie.  Ouers moet dit by hulle voorskoolse kinders inskerp:  dit is sleg vir jou om onafhanklik te wees; om jou eie baas te wil wees.  Dit wat nóú in ons land aangaan (weerstand teen gesag) het begin toe 2-jariges hulle ouers weerstaan het, en nie vasgevat is nie:  werkers wat met geweld staak, skoliere wat onderwysers aanrand, politieke leiers wat ‘n magstryd voer in die regering, lidmate wat teen hulle leiers opstaan en kerke skeur, rebelse tieners en studente.

 

Jy mag slegs ongehoorsaam wees as jou gesagsfigure vir jou sê om te sondig (Handelinge 4:19, 5:29).  As ‘n prediker nie deur God aangestel is nie, hoef jy nie vir hom te luister nie.  Ek het in ‘n preek gesê dat Benny Hinn ‘n vals leraar is.  Iemand het daarvan gehoor en gesê:  ‘’n Mens slaan nie jou hand aan die gesalfde van die Here nie – selfs al is hy verkeerd.’  Die feite is dat Benny Hinn nie die gesalfde van die Here is nie, maar ‘n dienskneg van die duiwel.  As iemand soos Adolf Hitler die volk uitmoor, dan mag ‘n mens wapens opneem en oorlog maak.  Om dít te doen sou nie wees om die gesag wat God daargestel het, te weerstaan nie.

 

Hoekom moet ons nie weerstand bied teen gesag nie?  Paulus sê in Romeine 13:1-2:  “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.”  As jy gesag weerstaan, weerstaan jy die Here.  En as jy dít doen sal God jou uitwis (20:12).  As jy aan gesag onderdanig is verheerlik jy die Here (1 Petrus 2:13-20).  Wie weet of Hy jou onderdanige optrede sal gebruik om ongelowiges te red (1 Petrus 3:1-2)?

 

Farao en die towenaars

Ek kry koue rillings as ek hoor hoe ateïste God weerstaan en uitdaag.  In ‘n preek het R.C. Sproul vertel van ‘n student wat sy vuis na die hemel gelig het, en God uitgedaag het hom om dood te slaan.  Sproul sê:  ‘I didn’t want to look, but I saw his dead body the next day, and I’ll never forget it.’  Farao het gedink hy is ‘n god.  Hy en sy towenaars het God tot ‘n tweegeveg uitgedaag.  Hulle het gou agterkom dat dit die domste ding is wat ‘n mens kan doen.

 

Ten spyte van God se wonderwerke sou Farao nie na Moses en Aäron luister nie.  God het sy hart verhard en so vir hom gegee wat hy wou hê (7:3-4).  God het dit gedoen, sodat Hy die plae kon vermeerder en aan die Egiptenare wys dat Hý – nie hulle gode nie – die ware God is (9:16, 12:12).  Farao het nie geglo dat God vir Moses en Aäron gestuur het nie, en het vir ‘n teken gevra (7:9, vgl. Johannes 2:18, 6:30).  Aäron het sy staf voor Farao en sy knegte neergegooi, sodat dit in ‘n slang verander het.  John Currid skryf:

 

‘…depicted on the front of the king’s crown was an enraged female cobra, or serpent.  This uraeus was thought by the Egyptians to be energized with divine sovereignty and potency.  It was considered the emblem of Pharaoh’s power.  It symbolized his divinity and majesty.  When Aaron flings down the rod-snake before Pharaoh, he is therefore directly assaulting that token of Pharaoh’s sovereignty; the scene is one of polemical taunting.’[2]

 

Die God wat klippe in mense kan verander (Matteus 3:9), kan stokke in slange verander.  Die twee towenaars, Jannes en Jambres, het dieselfde gedoen (7:11, 2 Timoteus 3:8-9).  Satan het ‘n slang se liggaam gebruik om vir Eva te mislei en kan homself voordoen as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:3, 14).  Hy kon maklik hier dieselfde gedoen het en deur bonatuurlike magte of oë-verblindery God se werk na-aap.  Later het hulle erken dat hulle nie sulke groot werke kon doen nie (8:18-19), en is hulle self deur die plae getref (9:11).  Op dié stadium het God toegelaat dat hulle sy werk na-aap, omdat Hy Farao se hart wou verhard.  “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Tessalonisense 2:11-12).  Deurdat Aäron se slang die towenaars s’n ingesluk het, het God gewys dat hy sterker is as die towenaars en gode van Egipte.  Farao se hart is verhard, sodat hy God weerstaan het en nie na hulle wou luister nie.

 

Moenie die Here uittart of uitdaag nie:

 

  • Moenie sy Naam vloek of nie omgee as hulle dit in films doen nie.
  • Moenie vir die Here sê om Homself te bewys of ‘n teken te gee, voordat jy die knie sal buig nie.
  • Dis nie verkeerd as jy verward is in jou beproewing en nederig vir God vra wat aangaan nie. Maar moenie bitter wees teen Hom, kwaad raak, of jou vuis vir Hom lig nie.
  • Moenie sy weë bevraagteken of sê sy Woord is dom nie (Romeine 9:19-23).
  • Moenie sy bestaan ontken nie. As Hy regtig bestaan en jy Hom so uittart, wonder jy dalk hoekom Hy jou nog nie uitgewis het nie? Wees dankbaar dat Hy so geduldig en genadig is!
  • Die Bybel sê jy kan vrymoedig bid en God aan sy beloftes herinner. Maar moenie soos die Prosperity predikers wees wat eise aan Hom stel nie.
  • Moenie met ‘n hoë hand sondig nie. Ek praat van iemand wat in sy hart dink: ‘Ek weet wat ek wil doen is verkeerd, maar voel ‘n veer vir wat God dink; ek sál dit doen.’
  • Moenie gedurig die evangelie hoor en jou hart verhard nie (Handelinge 7:51).

 

Vrees God en respekteer Hom.  Besef dat jy op die aarde is en Hy in die hemel.  Jy is niks.  As jy aanhou om jouself teen Hom te verset, sal Hy jou breek sodat jy jou nie meer kán bekeer nie (Spreuke 29:1).

 

John S.C. Abbott het in die 1800’s geleef.  Hy vertel van ‘n episode wat gebeur het toe hy 4 jaar oud was.  Een aand het sy gesin om die kaggelvuur gesit.  Sy pa het hulle gevra om die alfabet te hersien.  John het die hele alfabet goed geken, maar het geweier om dit op te sê.  Sy pa het hom weer gevra, maar hy het steeds geweier.  Sy pa het hom na ‘n private vertrek toe geneem en hom pak gegee.  Toe hulle terugkom wou hy nogsteeds nie die alfabet sê nie.  Sy pa het hom weer gestraf, maar hy wou nie toegee nie.  Sy pa wou hom nie te swaar straf nie.  John was so hard en onbeweeglik soos ‘n rots.  Sy pa het hom aan die hand geneem om hom weer te gaan straf.  Dadelik het sy wil gesmelt en het hy ingestem om die alfabet op te sê.  Baie jare later skryf hy:

 

“John learnt a lesson which he never forgot, that his father had an arm too strong for him.  He learnt that it was the safest and happiest course for him to obey.  He learned never again to wage such an unequal warfare.”[3]

 

Laat ons so wees en nie die Here weerstaan nie.  Om dit te doen is dwaas.  As ons in nederigheid die knie voor Hom buig, sal dit met ons goed gaan.

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield vol.1, pp.481-482

[2] Exodus vol.1, Evangelical Press, DARLINGTON, 2000, p.161

[3] Mark Chanski, Manly Dominion, p.217

Die soort gelowige wat deur God verwerp word

Rejected

Het jy al talent kompetisies gesien waar die deelnemer oortuig is hy kan sing, en dan uitmekaar geskeur word deur die beoordeelaars?  Net so is baie mense oortuig hulle gaan hemel toe, maar op die oordeelsdag sal hulle ‘n vreeslike verrassing kry.  “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir My sê:  Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matteus 7:21-23).  Hoe sal jy weet of jy die soort gelowige is wat deur God verwerp sal word?  Die lesse in 1 Samuel 15 sal vir jou sê.

 

Sy gehoorsaamheid (v.1-9)

Tiaan se kamer is ‘n gemors.  Sy ma sê vir hom om dit op te ruim.  Hy wil so gou as moontlik weer fietsry.  Hy gooi sy speelgoed onder die bed in en sit die vuil wasgoed agter die gordyn.  Sal sy ma tevrede wees?  Is God tevrede met half-hartige, self-gesentreerde gehoorsaamheid?

 

In hfst.13 was Saul ongehoorsaam.  Nou het die Here vir hom ‘n kans gegee om gehoorsaam te wees.  Hy moes God se wraak op die Amalekiete uitoefen en hulle uitwis:  “Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.” (v.3).  In Eksodus 17:8-16 het hulle Israel sonder rede aangeval.  In Deuteronomium 25:17-19 sê die Here:  “Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie.  As dan die HERE jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van Amalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.”

 

Is die Here onnodiglik wreed?  Hoekom onskuldige mense uitroei oor hulle voorvaders se sondes?  Die waarheid is dat Amalek in Saul se tyd nogsteeds bose sondaars was (v.18).  Dale Ralph Davis sê:  ‘Is Yahweh [the Lord] not slow to anger when he gives them three hundred years to repent?’[1]  Hoekom moes Saul onskuldige babas en kinders doodmaak?  Kinders is nie onskuldig nie, maar is in sonde gebore (Psalm 51:7).  Ook God het vir Moses gesê:  “Maar van die stede van hierdie volke wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, moet jy niks wat asem het, laat lewe nie.  Maar jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref:  die Hetiete en Amoriete, die Kanaäniete en Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, soos die HERE jou God jou beveel het; sodat hulle julle nie leer om te handel volgens al hulle gruwels wat hulle vir hul gode gedoen het, en julle teen die HERE julle God sondig nie.” (Deuteronomium 20:16-18).

 

Wat dink jy van ‘n God wat sy kinders beskerm en beveel dat hulle wrede en bose onderdrukkers doodgemaak moet word?  Moet ons sê dis onmenslik of sal ons dit geregtigheid noem?  ‘Rulers and nations who read it should shudder – especially if they have touched and butchered the sheep of [God’s] hand.’[2]  God het die reg om lewe te gee en dit weer weg te vat.  As Hy iemand beveel om sy vyande dood te maak is Hy nie onregverdig nie.  Mense wat dan sê radikale Moslems doen niks meer as wat God in die Ou Testament gedoen het nie, praat onsin.  God het die oorlog in 1 Samuel 15 beveel.  Die Moslems se oorloë dra nie sy goedkeuring weg nie.

 

Saul het sy weermag bymekaar geroep:  210 000 soldate.  Toe hulle by Amalek se hoofstad aankom, het hy vir die Keniete gesê om weg te kom, sodat hulle nie saam met die Amalekiete sou sterf nie.  Moses se skoonpa was ‘n Keniet (Rigters 1:16).  Hy en sy seun was goed vir Israel (Eksodus 18:9-10, Numeri 10:29-32).  Daarom het Saul die Keniete ‘n guns bewys.  Toe hulle weg is het Saul die Amalekiete verslaan.  Hy het hulle gejaag van Sur, wat oos van Egipte lê, tot by Hawila in noord-Etiopië.  Hy het die meeste van hulle en die swakste diere doodgemaak.  Hy het die koning (Agag), ‘n klomp mense, en die beste diere gespaar.  Hy het nie gedoen wat die Here gesê het nie en gesorg dat daar later groot probleme was.  In hfst.30 het die Amalekiete moles veroorsaak.  In die boek Ester het een uit Agag se nageslag – Haman, die Agagiet[3] – byna die Joodse volk uitgewis.

 

Wees gehoorsaam soos God wil hê.  Hoe is dit?

 

[1] Vertrou op Jesus om jou die krag te gee om gehoorsaam te wees.  Paulus praat in Romeine 16:26 van ‘gehoorsaamheid van die geloof’.

 

[2] Moenie net uiterlik gehoorsaam wees nie, maar laat dit uit jou hart kom.  Wees gehoorsaam met die regte motiewe.  ‘Obedient from the heart’ noem Romeine 6:17 dit (ESV).

 

[3] Vertrou op Jesus se gehoorsame lewe en kruisdood.  Onthou:  God aanvaar jou op grond van sý gehoorsaamheid, nie jou eie nie.  “…deur die gehoorsaamheid van die Één [sal] baie tot regverdiges gestel word.” (Romeine 5:19).

 

[4] Wees gehoorsaam aan die evangelie (Romeine 10:16).  Wat beteken dit?  Dit beteken jy doen wat God in die evangelie vereis:  bekeer jou en vertrou op sy gekruisigde en opgestane Seun.  As jy dít nie doen nie, maak geen ander gehoorsaamheid saak nie.  Dan is selfs jou goeie dade rebelsheid teen God.

 

[5] Laat liefde jou gehoorsaamheid dryf.  “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (Johannes 14:15).

 

[6] Wees, soos Jesus, gehoorsaam tot die einde toe.  “[Hy was] gehoorsaam… tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Filippense 2:8).

 

[7] Doen alles wat God sê en moet niks uitlos nie (v.3, 9).  Josua en Kaleb was nie volmaak nie, maar het God volkome gehoorsaam (Numeri 14:24, Josua 1:7, 11:15).

 

Is jy gehoorsaam soos God wil hê?  Indien nie, bekeer jou.  Ek sal later vir jou wys hoe om dit te doen.

 

Hoekom moet jy God só gehoorsaam?  Want net dié soort gehoorsaamheid sal God tevrede stel.  God het jou immers gemaak en gered om Hóm te behaag.

 

Sy belydenis (v.10-23)

Karla leen R1000 by FNB.  Sy kon nie die skuld betaal nie en het ‘n oproep van die Bank gekry.  Om die skuld te begin delg het sy R500 by ‘n loan shark gaan leen.  Nou was sy dieper in die moeilikheid.  Sy het geld by haar baas geleen om die loan shark en die bank terug te betaal.  Om haar baas terug te betaal het sy ‘n paar rand by die buurvrou geleen.  So het sy dieper en dieper in die skuld beland.  Iemand wat nie sy sonde wil erken nie, verskonings maak, en ander blammeer is so:  hy beland al hoe dieper in die moeilikheid.  Ons sien ‘n goeie voorbeeld hiervan in Saul.

 

God is ‘n Persoon; Hy het emosies.  Hy was bedroef dat Hy vir Saul koning gemaak het (vgl. Genesis 6:6-7).  Samuel se droefheid weerspieël God s’n.  Die teks sê:  “Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie. Toe het Samuel kwaad geword en die hele nag deur die HERE aangeroep.” (v.11).  Na sy oorwinning het Saul ‘n monument in Karmel[4] opgerig om homself te eer.  Toe Samuel na hom toe kom het hy geroem oor sy gehoorsaamheid:  “Mag u geseënd wees deur die HERE:  ek het die woord van die HERE uitgevoer.” (v.13).  “Daarop vra Samuel:  Maar wat vir ‘n geblêr van kleinvee is dit in my ore en ‘n gebulk van beeste wat ek hoor?” (v.14).  Saul het die manskappe beskuldig, maar gesê dat hulle die regte motiewe gehad het:  “die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die HERE u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref.” (v.15).  Die doel heilig immers die middele, nie waar nie?  Soos Adam en Eva en Aäron het Saul die skuld van homself afgeskuif (Genesis 3:12-13, Eksodus 32:24).

 

Samuel het gesê:  ‘Ek onthou hoe jy voorheen gedink het jy’s nie belangrik nie (9:21, 10:22).  Maar jy is nogsteeds die koning van Israel.  Hoekom het jy nie gedoen wat die Here sê nie?  Hoekom het jy toegelaat dat jou manskappe soos roofvoëls op die buit neersak en bloed eet (v.17-19, vgl. 14:32)?’  Saul het nogsteeds nie sy sonde erken nie, maar met Samuel gestry en flou verskonings gehad.  ‘Ek hét gedoen wat God gesê het.  My soldate het die beste vee gehou om vir die Here te offer,’ het hy gesê (v.20-21).  Samuel het genoeg gehad en in v.22-23 vir hom gesê:

 

“Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers

soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE?

Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer,

om te luister beter as die vet van ramme.

Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery,

en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens.

Omdat jy die woord van die HERE verwerp het,

het Hy jou as koning verwerp.”

 

God haat dit as mense offers bring terwyl hulle sonde koester.[5]  Vir Hom is gehoorsaamheid belangriker as offers.  Die offer is slegs aanneemlik as jy jou sonde haat en vergewe wil word.  Die Skrif sê:  “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.  Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:18-19).  “Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” (Hosea 6:6).  Voor God is rebelsheid soos waarsêery.  Kan dit anders wees?  As jy van Hom af wegdraai, draai jy na die duiwel toe.  Om soos Saul aan te neem God sal van jou beter plan hou, is niks anders as afgodery nie.  Jy skep ‘n god van jou eie verbeelding; ‘n god wat by jóú definisie van gehoorsaamheid pas.  Saul het God se Woord verwerp, en daarom het God hom as koning verwerp.

 

Moenie jou sonde wegsteek nie, maar bely dit.  Moenie van jou sonde sê:  ‘Ek kan nie help dat ek woede uitbarstings kry nie; ek is maar net mens… Dit word veroorsaak deur ‘n chemiese wanbalans in my brein… Ek het Hollandse bloed in my… Dis my temperament of persoonlikheidstipe… Ek het ‘n demoon van woede wat my versoek… Dis my omstandighede… Ek kan nie help nie; dis my gebroke ouerhuis se skuld… My huweliksmaat máák my so… Jy sou ook so gewees het as jy soveel stres gehad het… Ek het PMS… Die medikasie wat ek drink maak my so… Ek het ‘n lae selfbeeld… Dis nie so erg nie… Die meeste mense met rooi hare is so… Hoekom het God my so gemaak?’

 

Hou op om jouself te verskoon; bely jou sonde en noem dit wat God dit noem.  Net Hý kan jou vergewe, jou gewete reinig, en jou gemeenskap met Hom herstel.  Die Bybel sê:  “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.  As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.  As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1 Johannes 1:7-10).  “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13).

 

Sy bekering (v.24-35)

Harry is ‘n ingeneur by SASOL.  ‘n Bestuurspos is aan hom belowe.  ‘n Paar weke voordat hy die werk kry, word hy uitgevang vir ligte bedrog.  Hy weet dat hy sy werk kan verloor, ‘n slegte verwysing kry, die bestuurspos verbeur, of selfs tronk toe gaan.  Hy smeek, sê jammer, en bekeer hom.  Maar dit hou nie lank nie.  Ses maande later steel hy weer en beland hy in die tronk.  Hoekom?

 

Saul het sy sonde erken, maar hy het nogsteeds sy manskappe blammeer:  “Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.” (v.24).  Sy berou en bekering was vals soos Farao, Bileam en Judas s’n (Eksodus 9:27, 10:16, Numeri 22:34, Matteus 27:4).  Sy sonde was gedryf deur die vrees vir mense (v.24, Spreuke 29:5), en – soos ons binnekort sal sien – sy bekering ook.  Hy het vergifnis gevra en gesê dat hy die Here wil aanbid (v.25).  Hy het gehoop dat Hy deur aanbidding die Here se guns kan wen en sy skuldige gewete kan sus.  Toe die Israeliete gesondig het, het hulle presies dít gedoen.  In plaas van elke derde jaar, het hulle elke derde dag hulle tiendes gebring (Amos 4:4).  Hulle het hulle ‘bekeer’, maar was nie regtig jammer oor hulle sonde nie:

 

“Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.  En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.” (Psalm 78:34-37).

 

Saul wou hê Samuel moes saam met hom die Here aanbid, maar Samuel het geweier.  Toe Samuel omdraai om weg te loop het Saul sy mantel gegryp en dit geskeur.  “Vandag het die HERE die koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy,” het hy gesê (v.28).  Dit was ‘n belofte.  God sou nie later van gedagte verander nie.  Hy is nie ‘n mens wat kan lieg of van plan verander nie (v.29).  “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie.  Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Numeri 23:19).

 

Saul het weer vir Samuel gesê:  “Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en voor Israel, en kom saam met my terug, dat ek die HERE u God kan aanbid.” (v.30).  Wou Saul die Here aanbid, of wou hy goed lyk voor die volk?  Saul was soos die Fariseërs wat “die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.” (Johannes 12:43).  Samuel het uiteindelik saam met Saul gegaan.  Was dit om saam met hom te aanbid?  Nee.  Hy het gegaan om vir Agag dood te maak, om te doen wat Saul nagelaat het.  Agag het mense met die swaard doodgemaak.  Nou sou hý deur die swaard omkom (Genesis 9:6, Matteus 7:2).  Jesus het gesê:  “almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.” (Matteus 26:52).

 

Samuel en Saul het uitmekaar gegaan.  Samuel het nie weer vir Saul gaan sien nie.  Buiten vir een keer wat Saul na hom toe gekom het (19:24), het Samuel hom nie weer gesien nie.  God was ook bedroef dat hy vir Saul koning gemaak het.

 

God soek ware bekering.  Voordat jy dit kan gee moet jy eers weet wat ware bekering is.  Om jou te bekeer beteken om jou hart en gedagtes te verander en dán anders op te tree (1 Konings 8:48).  Jy moet jou sonde laat staan en dit met die regte dinge vervang (2 Korintiërs 12:21, Matteus 3:8).  Omdat bekering van God af kom, moet jy Hóm daarvoor vra (Handelinge 5:31, 11:18, 2 Timoteus 2:25).

 

Vals bekering is wanneer jy jammer is omdat jy dit haat om skuldig te voel, die gevolge van sonde haat, of nie daarvan hou dat jy uitgevang is nie.  Ware bekering is wanneer jy die sonde self haat, jammer is dat jy God bedroef het, jou sonde laat staan en dit met die goeie vervang, kwaad is vir jouself en nie vir ander nie, skuld aanvaar, en na die kruis toe draai vir vergifnis.  Paulus skryf:  “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.  Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God—wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing.  In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is.” (2 Korintiërs 7:10-11).  Slegs ware bekering kan vergifnis bring (Lukas 24:47, Handelinge 2:38).  Vals bekering eindig in die dood (2 Korintiërs 7:10).

 

Het jy al gehoor van elite klubs waar jy slegs aanvaar sal word as ‘n bestaande lid jou uitnooi en voorstel?  So is dit met God.  Hy sal jou net aanvaar as jy deur Jesus na Hom toe kom (Johannes 14:6).  Jesus is namens jou verwerp, dat jy deur Hom aanvaar kan word.  Kom dan na Hom toe in ware belydenis en bekering.  Laat jou geloof in Hom uitloop op ware gehoorsaamheid.

[1] 1 Samuel: Looking on the Heart, p.155

[2] Ibid

[3] Ester 3:1

[4] Hierdie is nie die bekende berg Karmel nie, maar ‘n dorp 11 km suid van Hebron.

[5] Jesaja 1:11-18, Psalm 40:7-9

Wat sal jy met die evangelie doen?

Hand stretched out

Joel Beeke is ‘n predikant in Amerika.  Kort na hy by ‘n nuwe gemeente begin het, het hy sy vriend Ernest Reisinger, besoek.  ‘Ek weet nie wat om te doen nie,’ het Beeke gesê.  ‘Niemand in die gemeente staan neutraal teenoor my nie.  ‘n Paar mense is mal oor my en die res haat my.’  Reisinger het sy hand op Beeke se bo-been geklap:  ‘Dis wonderlik!’ het hy gesê, ‘dit beteken jy is besig om deur te dring!’  Presies dít is wat die evangelie vereis:  wees lief daarvoor en verdedig dit, of haat en verwerp dit.  Handelinge 28:17-31 illustreer dit.

 

Paulus verdedig die evangelie (v.17-23)

In 1988 het John MacArthur The Gospel According to Jesus geskryf.  Die boek was ‘n poging om die oppervlakkige evangelie van die Amerikaanse kerk reg te stel.  Baie predikers en teoloë het gesê dat Jesus jou Verlosser kan wees sonder dat Hy jou Here is:  jy kan gered wees sonder dat jou hart verander is; in sonde volhard en nogsteeds oppad wees hemel toe.  MacArthur wou dié dwaling regstel.  Toe die boek sy verskyning maak, het baie dit aangeval.  Baie jare later het MacArthur in ‘n onderhoud met Iain Murray gesê:  ‘I never dreamed that I would spend a great deal of my ministry protecting the gospel from evangelicals.’ (vry aanhaling).  Dis tragies dat Paulus die evangelie teen God se volk Israel moes verdedig.

 

Toe Paulus in Rome kom het hy die Joose leiers na hom toe geroep.  Volgens gewoonte het hy die evangelie eerste aan die Jode verkondig (Romeine 1:16).  Hy het aangeneem dat die Jerusalem-Jode se klagtes teen hom hulle ore bereik het, en wou dit regstel.  ‘Die hof het my onskuldig bevind,’ het hy gesê.  ‘Omdat die Jode beswaar aangeteken het móés ek my op die keiser beroep – ek het nie ‘n ander keuse gehad nie.  Ek is nie hier omdat ek iets teen my volk het nie, maar omdat hulle iets teen mý het.  Ek het geen begeerte om wraak te neem nie.  Die ware rede hoekom ek in boeie is, is omdat ek die hoop van Israel – die Messias en die opstanding van die liggaam – verwag.’[1]

 

Wou Paulus homself verdedig?  Of het hy opgestaan vir die evangelie?  Die Jode het vir hom gesê:  “Ons het geen briewe oor u van Judéa ontvang nie; ook het niemand van die broeders hier aangekom en iets slegs van u berig of gepraat nie.  Maar ons verlang om van u te hoor wat u dink; want wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word.” (v.21-22, vgl. 24:5).  Paulus se lewe was rein.  “en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” (1 Petrus 2:12).

 

Paulus het met die Jode afgespreek om op ‘n sekere dag na hom toe te kom. Hulle het in groot getalle opgedaag.  Van die môre tot die aand het hy die evangelie van die Koninkryk verkondig en uit die Wet en Profete bewys dat Jesus die Messias is.[2]

 

Moenie met jou hande in jou sakke staan en toekyk hoe mense die evangelie aanval nie.  Doen iets; verdedig dit!  Hoe moet jy dit doen?  Jy kan nie lojaal wees aan ‘n evangelie waaraan jy geen waarde heg nie.  Eers as jy vir jouself gesmaak het dat die evangelie goed is, sal jy dit verdedig.  Sorg dat jy die feite van die evangelie ken, sodat jy dit kan verdedig.  Kry Galasiërs onder die knie en memoriseer Paulus se opsomming van die evangelie in 1 Korintiërs 15:3-4:  “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte”.

 

Beskerm die evangelie teen evolusie.  Evolusie sê dat dood voor sonde in die wêreld was; dat dood nie ‘n straf op die mens se sonde is nie.  Dit peuter met die evangelie:  was Jesus se dood God se straf op ons sonde of nie?  Veg om die evangelie teen liberale teologie te beskerm.  Liberale teoloë ontken Jesus se dood in ons plek[3] en sy liggaamlike opstanding uit die dood.  Verdedig die evangelie teen TBN se Prosperity predikers en hulle volgelinge.  Dié mense sê dat Jesus aarde toe gekom het sodat ons ryk, voorspoedig en gesond kan wees.  Vir hulle gaan die goeie nuus oor geld en nie oor die vergifnis van sonde nie.  Beskerm die evangelie teen kultusse; teen dié wat ‘n ander Jesus verkondig.  Dié groepe sê ons gaan hemel toe as ons in Jesus glo plus sekere reëls volg.  Hulle verwerp die evangelie van verlossing uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen.  Moenie bang wees om op te staan by die werk, skool en in jou familie nie.  Moet ook nie bang wees as jou opponent slim argumente en antwoorde het nie.  God is aan jóú kant.  Die meeste mense wat die evangelie verwerp het dit nog nooit vir hulleself getoets nie, maar verwerp dit op grond van ander se getuienis (v.22).

 

As jy die evangelie verdedig moet jy nie net jou opponente se valsheid uitwys of aanspreek nie.  Bevorder ook die waarheid.  Jou krag om ander te oortuig lê nie daarin dat jy ander weerlê nie, maar in die evangelie self:  dít is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo.[4]

 

Hoekom is dit belangrik om die evangelie te verdedig?  Jesus antwoord:  “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.  Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 10:32-33).

 

Die Jode verwerp die evangelie (v.24-31)

Adolf Hitler was ‘n Duitse diktator.  Hoe het mense teenoor sy diktatorskap gereageer?  Dink jy enigiemand het ‘n traak-my-nie-agtige houding ingeneem?  Die wêreld het hom, òf gehaat en teëgestaan (soos Engeland en Amerika), òf hulle lojaliteit aan hom bewys (soos Italië en Japan).  So is dit met Jesus en die evangelie:  jy moet Hom haat of liefhê.  Jy kan nie onpartydig wees of Hom ignoreer nie.  As jy nie vir Hom is nie is jy teen Hom.[5]

 

Toe Paulus klaar gepreek het was daar twee reaksies:  “sommige het geglo wat gesê is, maar ander het ongelowig gebly.” (v.24).  Hoekom het party geglo en ander nie?  In v.25-27 antwoord Paulus uit Jesaja 6:9-10:

 

“Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek en gesê:

‘Gaan na hierdie volk en sê:

Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie,

en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

Want die hart van hierdie volk het stomp geword,

en met die ore het hulle beswaarlik gehoor,

en hulle oë het hulle toegesluit,

sodat hulle nie miskien met die oë sou sien

en met die ore hoor

en met die hart verstaan

en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.’”

 

Met ander woorde, hulle het hulle harte verhard.  Daarom het God ook hulle harte verhard en die evangelie van hulle weggevat (Matteus 21:43).  Voortaan sou Hy na die heidene toe gaan (v.28, Johannes 10:16).  Sondaars glo of verwerp die evangelie, omdat Gód hulle oë oopmaak of aan die hardheid van hulle harte oorgee.  Lukas skryf:  “Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê:  Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word.  Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene… En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (13:46, 48).  Jesus het gesê:  “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).

 

Vir twee volle jare het Paulus rustig in Rome gewoon.  Hy het tente gemaak en geskenke ontvang en homself só onderhou (18:3, Filippense 4:18).  Hy het nie tyd gemors nie, maar die twee jaar goed benut “en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.” (v.30-31).  Hy was nou wel in boeie, maar die evangelie was nie (2 Timoteus 2:9).  In dié tyd het hy Filippense, Efesiërs, Kolossense en Filemon geskryf.[6]  Na die twee jaar in Rome is hy vrygelaat[7], het hy nog kerke besoek, en 1 Timoteus en Titus geskryf.  Jesus se opdrag was dat die evangelie tot aan die eindes van die aarde verkondig moet word (1:8).  Deur Paulus het die evangelie Rome bereik.  In Romeine 16:26 kon hy skryf:  “[The gospel] has been made known to all nations” (ESV).  Hy is weer gevange geneem.  Uit ‘n koue tronksel het hy 2 Timoteus (sy laaste brief) geskryf.  Volgens oorlewering het keiser Nero hom onthoof.

 

Reageer vandag op die evangelie.  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Korintiërs 6:2).  Maar voor jy reageer moet jy weet wat Jesus van jou vereis.

 

[1] Jesus vereis dat jy jou sondige self moet haat.  Jy moet bereid wees om jou lewe vir Hom te gee.  Jy moet Hom elke dag volg en nie net wanneer dit jou pas nie (Lukas 9:23).

 

[2] Jesus vereis dat jy liewer is vir Hom as vir jou familie.  Wie sal jy kies as jy tussen Jesus en jou familie moet kies (Lukas 14:26)?  As jy Hom wil volg moet jy gewillig wees om alles prys te gee (Lukas 14:33).

 

[3] Jesus vereis dat jy jou van jou sonde bekeer (17:30).  Is jy bereid om sekere sondes te los, maar nie almal nie?  Is daar één sonde wat jy net nie wil los nie?  Jesus het gesê:  “As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.  En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.” (Matteus 5:29-30).

 

[4] Jesus vereis dat jy die evangelie moet glo (Markus 1:15).  Moenie jou eie weergawe van die evangelie glo nie.  Glo die Bybel se Jesus en evangelie.  Die Bybel sê Hy is volkome God en mens.  Hy het geen sonde gedoen nie.  Hy het aan die kruis gesterf vir sondaars.  Hy is begrawe en het liggaamlik opgestaan uit die dood op die derde dag.  Geloof beteken om hierdie feite te aanvaar, te vertrou dat Hy jou kan red van jou sonde, en na Hom toe te kom.

 

[5] Jesus vereis dat Hy nie net ‘n deel van jou lewe sal wees nie, maar jou hele lewe.  Hy moet alles wees of niks.  Hy moet in jou bly en jy in Hom (Galasiërs 2:20, Johannes 6:53, 15:5).

 

[6] Jesus vereis dat jy Hom bo alles liefhet en doen wat Hy sê (Johannes 14:15, Lukas 6:46, 10:27).

 

Pasop vir die dodelike strik waarin baie al beland het.  Hulle skep ‘n Jesus en evangelie waarmee hulle gemaklik is; ‘n Jesus en evangelie wat nie so rigied, radikaal, veeleisend, aanstootlik, en ongemaklik is nie; “…‘n ander Jesus… ‘n ander evangelie” (2 Korintiërs 11:4).  Moenie jou gewete bedrieg en dink Jesus en die evangelie se eise sal weggaan as jy dit ignoreer of sê dit bestaan nie.  As jy sy stem vandag ignoreer en onverskillig is, bestaan die kans dat Hy jou hart verhard (Hebreërs 3:15, 10:26, 29).  Om vir Jesus te sê ‘wag’ is om ‘nee’ te sê, want almal wat nie vir Hom is nie is teen Hom.

 

John Bunyan het dit geniet om sonde te doen – veral op Sondae.  Toe hy op ‘n dag in die kerk sit, het die predikant hierteen gepreek.  Bunyan was oortuig dat dié preek voorberei was om sy boosheid uit te wys.  Hy het skuldig gevoel en met ‘n swaar gemoed by die kerk uitgestap.  Hy het probeer om van die preek te vergeet, sodat hy weer sy sonde kon doen.  Dieselfde dag nog, terwyl hy sonde doen, het daar ‘n stem in sy siel gesê:  ‘Will you leave your sins and go to heaven or have your sins and go to hell?’[8]  Dít is die vraag wat Jesus en die evangelie vandag voor jou stel.  Wat sal jy daarmee doen?

[1] Sien v.17-20, 24:15, 26:6-8.

[2] Genesis 3:15, Eksodus 12, Deuteronomium 18:15-19, Psalm 16, 22, 69, Jesaja 11, 53, ensovoorts.

[3] In teologie noem ons dit sy plaasvervangende soendood.

[4] Romeine 1:16

[5] Matteus 12:30

[6] Efesiërs 6:20, Filippense 1:13-14, Kolossense 4:18, Filemon 23

[7] Filippense 1:19, Filemon 22

[8] John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners, p.13

Só lyk ‘n samelewing wat God ontken

There's no God

‘Dít is wat gebeur as ‘n mens God onttroon en jouself die middelpunt wil maak:  jy vergeet jou verantwoordelikhede teenoor ander; jy misbruik hulle besittings en selfs hulle liggame om jouself te dien’ (Barrett, aangehaal in New Bible Commentary, p.1018).  So klink Paulus se beskrywing hiervan:

 

28 En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: 29 hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; 30 nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; 31 onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, 32 mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” (Romeine 1).

 

Mense se denke (v.28)

As jy wil weet of edelmetale suiwer en bruikbaar is, moet jy dit in vuur toets.  Net so toets God mense se harte en gedagtes:  “Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte.” (Spreuke 17:3).  Hy sien dat mense se gedagtes onrein en waardeloos is.  Hulle erken Hom nie, maar sê:  ‘Ek sal laterin my lewe oor God besluit…Godsdiens is nie vir my nie…Kerk is ‘n mors van tyd…Ek is verlig – die Bybel is ‘n antieke boek vir antieke mense…Om God te erken pas my nie’.  Job 21:14-15 sê:  “Tog het hulle tot God gesê:  Bly ver van ons af; en:  In die kennis van u weë het ons geen behae nie.  Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien?  En wat baat dit ons dat ons biddend by Hom aandring?”  Omdat dit mense nie pas om God te dien nie, het God hulle oorgegee aan begeertes, denke en dade wat nie by opgevoede mense pas nie (v.28).  “In sy sonde sê die mens vir God:  ‘Gaan weg en los my uit.’  Deur die straf van die hel sê God vir die mens:  ‘Jou wens is vervul.’” (C.S. Lewis, aangehaal in Millard J. Erickson, Christian Theology, p.1240).

 

As jy soos Farao volhou met jou sonde, jóú wil doen, God ignoreer en jou hart verhard (Eksodus 8:32), dan sal God jou hart verhard, sodat jy jou nie kán bekeer nie (Eksodus 10:27).  Die Bybel noem dit sonde teen die Heilige Gees; die onvergeeflike sonde.  Dit is hoe dit beskryf word:

 

“‘n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is.” (Spreuke 29:1).

 

“Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.  Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.  Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou; omdat daar gesê word:  Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.” (Hebreërs 3:12-15).

 

“Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Hebreërs 6:4-6).

 

Party van my hoorders en lesers het al baie keer die evangelie gehoor, maar lewe nogsteeds in rebellie teen God.  Die Here gee vandag vir jou nog ‘n kans.  Moenie alweer uitstel nie.  Dalk oorkruis jy vandag die onsigbare lyn.  Miskien is vandag die dag wat God jou hart verhard.  Hoor die Woord van die Here:  “Kyk, NOU is dit die tyd van die welbehae; kyk, NOU is die dag van heil.” (2 Korintiërs 6:2b).

 

Mense se dade (v.29-31)

In Dr. Seuss se Lorax, sing die hoofkarakter:  ‘How b-a-a-a-a-d can I be?’  Sy lirieke is ‘n goeie opsomming van v.29 waar Paulus twee keer sê dat die mens vol van sonde is.  Alhoewel dit in ‘n ander konteks gesê is, geld Jehu se woorde vir ons samelewing:  “Agab het Baäl ‘n bietjie gedien; Jehu sal hom baie dien.”  Die frase ‘vol sonde’ beteken nie net dat mense baie sonde doen nie, maar ook baie verskillende soorte sonde.  Iemand wat vol drank is word deur die alkohol beheer.  Net so word mense wat vol van sonde is daardeur beheer:  hulle harte, gedagtes, begeertes, emosies, wil, woorde, dade, sintuie, ensovoorts.

 

In v.24-27 het ons reeds in detail gekyk na seksuele immoraliteit en homoseksualiteit.  In v.29-31 gee Paulus nog 21 voorbeelde van sondes wat soos die pes uitbreek in ‘n samelewing sonder God (die Ou Vertaling noem 23 sondes, maar twee hiervan kom nie in die beste manuskripte voor nie.  Die ekstra twee word op ander plekke in die Bybel verdoem).  Hier is hulle:

 

[1] Ongeregtigheid.  Alle ongeregtigheid is sonde (1 Johannes 5:17).

 

[2] Boosheid.  Uiterlik lyk hulle miskien skoon, maar innerlik is hulle vol van boosheid (Lukas 11:39).  Hulle word veral deur bose magte verlei om aaklige dinge te doen (Efesiërs 6:12).

 

[3] Hebsug of gierigheid.  Die Skrif sê:  “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.” (Eksodus 20:17).  Paulus sê gierigheid is afgodery (Kolossense 3:5).  Mense sal ander mense doodmaak, steel, leuens vertel, egbreuk pleeg, onderdruk, op ander trap om te kry wat hulle wil hê.  Ons moet pasop dat ons nie ons kinders leer om gierig te wees nie.  Moet hulle nie met geskenke manipuleer nie:  ‘As jy ophou huil sal ek vir jou ‘n suigstokkie koop…As jy jou eksamen slaag sal ek vir jou ‘n kar koop’.  Moenie toegee aan hulle tantrums omdat jy nie in die verleentheid wil kom nie.  Moenie maak asof kersfees oor húlle gaan en nie oor Jesus nie.  Deur al hierdie dinge te doen leer jy hulle om te kry wat húlle wil hê.

 

[4] Ondeug.  Dit praat van slegte planne in ‘n mens se hart.  Die Skrif sê:  “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie.  Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.  Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  Ek is die HERE.” (Levitikus 19:17-18).

 

[5] Nydigheid.  Hier praat Paulus van mense wat so afgunstig is, dat hulle seker sal maak dat niemand goeie dinge kan kry as húlle dit nie kan kry nie (byvoorbeeld bevordering by die werk).

 

[6] Moord.  In Paulus se dag was kindermoord, aborsie, mense-offers en selfmoord algemeen.  Baie keisers het hulle vroue, kinders, dienaars, slawe en ander vermoor.  Dalk beplan jy moord, selfmoord of aborsie.  Maar moenie dink jy is onskuldig as dít nie in jou gedagtes is nie.  As jy iemand uit jou lewe wil hê (hetsy deur te skei, mense te haat, te ignoreer, af te skryf, aan te val, te vloek, te skel, te slaan of te dagdroom hulle trek of sterf) is jy ‘n moordenaar (1 Johannes 3:15).

 

[7] Twis.  Daar was onlangs ‘n hewige geveg tussen ‘n klomp NG-kerk dominees en lidmate op Facebook.  Maar wat van jou?  Hoe lyk die verhoudings in jóú huwelik, gesin, werk, skoonfamilie en kerk?

 

[8] Bedrog.  Dit sal geld insluit, maar gaan oor meer as dit.  Jy kan bedrog pleeg met jou tong of deur te sê jy is ‘n Christen terwyl jou dade glad nie jou belydenis ondersteun nie.  As jy jou beloftes breek of jou stories vergroot om mense te beïndruk (daardie ‘jagstories’ van jou).  Selfs as jy ‘n sogenaamde witleuen vertel is jy skuldig aan bedrog.

 

[9] Kwaadaardigheid.  Sulke mense dink die slegste van ander en bevraagteken alewig ander se motiewe (selfs al doen die mense goed aan hulle).

 

[10] Nuusdraers.  Hierdie is die soort mense wat alles weet van almal (hulle snoep rond op Facebook en steek hulle neuse in ander mense se sake).  Die Bybel sê:  “Jy mag nie as ‘n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie.  Ek is die HERE.” (Levitikus 19:16).

 

[11] Kwaadsprekers.  Dié mense hou veral daarvan om baie te praat op die telefoon (al is dit per sms of Whatsapp).

 

[12] Haters van God.  Jesus het gesê dat die wêreld Hom haat (Johannes 7:7).  Sulke mense haat God omdat Hy tussen hulle en hulle sonde staan.  Hulle gunsteling onderwerp is om God, die Bybel en Christenskap te belaster en uit te lag.

 

[13] Geweldenaars.  Die woord spreek van mense wat ander seermaak, omdat dit vir hulle plesier bring.  Hulle is sadiste.

 

[14] Trotsaards.  Dié mense verkleineer graag ander mense om hulleself beter te laat lyk.

 

[15] Grootpraters.  Judas 16 praat van ‘loud-mouthed boasters’ (ESV).  Hierdie mense sal grootpraat oor hulle…

  • Godsdienstigheid (Lukas 18:11-12).
  • Rykdom (Psalm 49:7).
  • Afgode (Psalm 97:7).
  • Sonde (Psalm 52:3).  Twee seuns op skool het eendag by ‘n gimnastiek oefening geroem oor watse lelike sondes hulle al gedoen het.  Die een wou beter wees as die ander, en dit terwyl Paulus praat van sondes waaroor ons skaam behoort te wees (6:21)!
  • Belangrikheid (Handelinge 5:36).  Het jy al gedagdroom oor hoe jy beroemd word, of oor hoe ander mense goed praat van jou?  Party mense (soos Miguel de Jesus in Meksiko) gaan so ver om te sê dat hulle God is (2 Tessalonisense 2:4).
  • Planne (Jakobus 4:16).  Hulle praat asof hulle in beheer is van die toekoms.

 

Mense wat so roem, roem oor dinge wat net in hulle verbeelding bestaan.  Hulle hoop om ander te beïndruk.  As Christene moet ons eerder roem in die Here en sy kruisdood (Jeremia 9:23-24, Galasiërs 6:14).  Laat ons roem deurdat ons sy lof besing en sy grootheid verkondig in die evangelie.

 

[16] Uitvinders van slegte dinge.  “God [het] die mens reg gemaak [Adam en Eva]…maar hulle het baie slim planne gesoek.” (Prediker 7:29).  In ons land dink mense nuwe metodes van kaping uit.  Party mense vind plesier daarin om nuwe maniere van sonde uit te toets.  TV en films help veral om kinders en misdadigers hierin aan te moedig.  Ook as mense tyd misbruik en ledig is word hulle hierin aangehits.

 

[17] Ongehoorsaam aan ouers.  Ons lees van Eli se seuns:  “Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms, dan sê hy vir hulle:  Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor?  Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree.  As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ‘n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree?  Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.” (1 Samuel 2:22-25).  Daar is geen meer respek vir onderwysers in ons skole nie.  Oor die afgelope paar maande is onderwysers deur kinders aangerand.  Ook in die werkplek bestaan respek nie meer nie.  Waar anders begin dit as in die huis?  Jesaja 3 beskryf wat in ‘n vervalle samelewing gebeur:  “En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moedswilliges sal oor hulle heers.  En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop…Die drywers van my volk is kinders…” (v.4-5, 12).

 

In 18 Oktober se Citizen was daar ‘n artikel wat duidelik wys dat ons land op ‘n afdraende pad is.  Die titel was, What makes parents uncool?  Hier is ‘n paar dinge:

 

  • As hulle nie die toptreffers ken nie.
  • As hulle nie moderne liede se woorde ken nie.
  • As hulle nie ‘n ordentlike kar ry nie.
  • As hulle nie toelaat dat hulle kinders laat uitbly nie.
  • As hulle geen belang in rekenaar speletjies het nie.
  • As hulle toesien dat hulle kinders die regte skooldrag dra.
  • As hulle nie wil hê hulle kinders moet oorbelle dra nie.
  • As hulle nie toelaat dat hulle kinders selfone het nie.
  • As hulle nie DSTV het nie.
  • As hulle nie toelaat dat hulle kinders dra wat hulle wil nie.
  • As hulle ‘n goeie verhouding met hulle kinders se vriende het.
  • As hulle nie toelaat dat hulle kinders ‘n tattoo kry nie.
  • As hulle nie vir hulle kinders ‘n i-Pad kry nie.

 

Dit is sleg en ongesond as ‘n samelewing om jongmense draai; as hulle toelaat dat die jongmense voorskryf hoe dinge moet wees (byvoorbeeld die ANC Jeugliga of tieners wat bepaal wat die populêre modes, musiek en films moet wees).  Die kerk moenie deur die wêreld beïnvloed word, sodat alles jongmens-gesentreerd is nie.  Tydens die 1904 herlewing in Wallis het mense gedink dat dit baie geestelik is om die leisels oor te gee aan jongmense.  Een prediker is nie deur die jongmense (tussen 16 en 23 jaar) toegelaat om te preek nie.  Nadat hy vir ‘n paar weke uit die kansel afwesig was, het hy vir hulle gevra:  ‘Am I to preach tonight?’  Hulle antwoord was:  ‘It depends upon what the Spirit tells us.’  Een man skryf oor hierdie herlewing:  “In the present revival, the Bible is ignored, and it is claimed that visions and new revelations are received…In the Book of Acts it is said that Paul ordained elders in every church…It is clear to all who wish to see that it was the elders who were to rule in the churches…In the present revival, the elders are condemned as heretics if they do not yield, and conform to the methods of the young.  The officers of the churches are at present ignored.’ (Iain Murray, Pentecost – Today, pp.161-162).  Die bestaan van jeugkerke is ongesond.  Ek sien geen voorbeeld daarvan in die Bybel nie.

 

[18] Onverstandig (cf. v.21-22).  In 3:11 sê Paulus:  “Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.”  In baie gevalle is dit jongmense wat roekeloos is en dom dinge aanvang.  Maar hierdie sonde is nie nettot hulle beperk nie.

 

[19] Ontrou.  Mense is dislojaal; jy kan nie op hulle steun of staatmaak nie.  Die Griekse term beteken letterlik ‘verbond brekers’.  Sulke mense se handtekening of woord beteken vir hulle niks nie.  Vir hulle is ‘n verbond niks meer as ‘n stuk papier nie.  Hulle breek hulle huweliksbeloftes.  Hulle hou nie by die kontrakte wat hulle onderteken nie.  Hulle belofte as lidmate van die kerk word gebreek.  Die getuies by hulle doop of die toewyding van hulle kinders kan duidelik sien watse tipe mense hulle is:  ontrou.

 

[20] Sonder natuurlike liefde.  In die eerste eeu is ‘n nuutgebore baba aan sy of haar pa se voete neergelê.  Die pa het besluit of hy die kind wil hê of nie.  Net soos in ons tyd, is babas in Paulus se tyd geaborteer of weggegooi (‘n ma wat dít doen het geen natuurlike liefde nie!).  Ook bejaarde mense was vir die samelewing ‘n las.  Vandag baie mense dat hulle vir ou mense omgee, maar die feit dat baie kinders hulle ouers eenkeer in ses maande in die siekeboeg gaan sien getuig anders.  Mense is, soos Paulus sê, sonder natuurlike liefde.

 

[21] Onbarmhartig.  Die Mouk-stam het voorvader geeste aanbid.  Tydens hulle feeste sou een van die mans ‘n lelike masker op hê, en maak of hy ‘n voorvader gees is.  Indien ‘n vrou sou uitvind dat dit net ‘n gewone man was wat die masker aan het, het hulle haar doodgemaak.  In Indië sou ‘n weduwee lewendig langs haar man verbrand word.  Paulus het geleef in ‘n wêreld waar Gladiators mekaar vir die keiser se plesier doodgemaak het.  In ons tyd het mense wat in plaasmoorde betrokke is geen barmhartigheid oor hulle slagoffers nie – selfs al is hulle bejaard.  Die een rede hoekom mense onbarmhartig is, is omdat hulle self nie barmhartigheid verstaan nie.  Die les wat so iemand moet leer is dit:  Jesus het geeneen van die sondes van v.29-31 gedoen nie.  Hy het perfek gelewe, maar is namens ons gestraf asof Hy elkeen van hierdie sondes gedoen het.  Indien jy tot Hom roep, na Hom toe kom, op Hom vertrou, die evangelie glo, jou sonde bely, vergifnis vra en jou bekeer, dan sal jy gered word van die oordeel wat oppad is.

 

Mense se goedkeuring (v.32)

‘Die uiterste van sonde is as mense applous gee vir ander se sonde, eerder as om daaroor te treur’ (NIV Study Bible).  In Angus Buchan se film, Ordinary People, juig ‘n groep motorfietsryers ‘n ‘nuweling’ toe om dronk te word.  Mense se gewetens getuig dat hulle vir hulle dade die dood verdien:  “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (2:14-15).  “Want die loon van die sonde is die dood” (6:23).  Mense sondig dus nie uit onkunde nie, maar in direkte rebellie teen God:  “mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien” (v.32a).  Hierdie mense doen nie net self die sonde nie, maar keur ook ander se sonde goed, verbly hulle daarin en hits dit aan:  “dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” (v.32b).  Baie ander verse bevestig dit:

 

“As jy ‘n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers.” (Psalm 50:18).

 

“Met hulle boosheid verbly hulle die koning en met hulle leuens die vorste.” (Hosea 7:3).

 

“En Judas Iskáriot, een van die twaalf, het na die owerpriesters gegaan om Hm aan hulle oor te lewer.  En toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om hom geld te gee. En hy het na ‘n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.” (Markus 14:10-11).

 

“Julle gee dus getuienis vir die werke van julle vaders en het saam welbehae daarin, want hulle het hul gedood en julle bou hul grafte.” (Lukas 11:48).

 

“En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur.” (Handelinge 8:1).

 

“en toe die bloed van Stéfanus, u getuie, vergiet is, het ek ook self daarby gestaan en sy vermoording goedgekeur en die klere opgepas van die wat hom doodgemaak het.” (Handelinge 22:20).

 

“[Die liefde] is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.” (1 Korintiërs 13:6).

 

“sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Tessalonisense 2:12).

 

Dit is erg dat party van die owerhede, polisie en regters in ons land kop in een mus is met misdadigers.  Ook die media vind genot in ander se sonde, deurdat hulle dit van die dakke af verkondig.  Die versoeking is daar vir ons om onsself in ander se sonde te verlustig en om dit goed te keur.  TV, tydskrifte en advertensies kan ‘n mens maklik in hierdie strik laat trap.  Pasop!

 

Die verskriklike sondes in v.28-32 wys vir ons dat geen mens hom of haarself kan red nie.  Ons sal nooit hierdie land kan verander nie.  Indien verandering plaasvind moet dit van God af kom.  Hy sal bonatuurlik moet ingryp.  Die evangelie alleen kan ons red van die mag van sonde (v.16-17).  Die herlewings van die geskiedenis is ‘n bewys dat die evangelie ‘n vervalle samelewing kan herstel.  Na die 1859 herlewing in Noord-Ierland het die drank bedryf op sy neus geduik.  Een distrik het nege drinkplekke gehad.  Twee het gesluit toe hulle eienaars tot bekering gekom het.  Drie moes toemaak omdat daar geen besigheid was nie.  Die ses wat oopgebly het se verkope was in die jaar 1860 minder as wat voorheen deur één drankwinkel verkoop is (Iain Murray, Pentecost – Today?, p.182).  In plekke waar mense geen Bybel het, die gesonde lering daarvan hoor en daaraan gehoorsaam is nie, floreer die sondes waarvan ons in v.28-32 lees.  Dis ‘n feit.

 

Disrespek vir gesag – hoe kan dit verander word?

“Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys. Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het – nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.” (Titus 3:1-7).

 

Ons het reeds v.1-6 in diepte beskou.  In hierdie preek wil ek tog graag ‘n oorsig van dié verse gee en ‘n ander perspektief daarop bring.  In die eerste twee verse gee Paulus sewe toepassings van hoe ‘n Christen respek moet betoon aan ander mense.  Ons moet onderdanig en gehoorsaam wees aan die owerhede wat oor ons aangestel is.  Paulus verwys spesifiek na siviele owerhede, maar jou baas by die werk en ‘n kind se ouers by die huis word nie uitgesluit nie.  Ons moet ook gereed wees vir elke goeie werk.  Ons moet uitkyk vir geleenthede om goed te doen.  Sodoende respekteer ons ander mense.  Ons moenie op enige wyse kwaad praat van ander nie.  Nie deur geskel, leuens, geskinder, gevloek, of enige so iets nie.  Ons moet draaie om mense loop wat wil stry en rusie maak.  Wees uiterlik vriendelik en innerlik sagmoedig.  Wees goedgemanierd teenoor almal.

In v.3 leer Paulus vir ons waarom ons respek aan ander moet bewys:  Want jy was ook op ‘n tyd verlore in jou sonde, en ten spyte daarvan was God geduldig met jóú.  Jy was moreel verstandloos.  Jy was ongehoorsaam aan die gesagsfigure in jou lewe (sien v.1).  Jy was op ‘n dwaalweg – jy het letterlik soos ‘n zombie agter die wêreld en die duiwel aangeloop (sien Efesiërs 2:2).  Jy het gedink jy kon doen wat jý wil, maar eintlik was jy glad nie in beheer nie – jy was ‘n slaaf van sonde.  Jy het net gelewe vir jouself.  Jy het gedoen wat jy wou doen en gekyk na wat jy wou.  Jy het slegte dinge begeer.  Jy het verbode vrugte gesoek.  Jy het slegte planne gemaak, en daar is dinge wat jy in jou verlede gedoen het wat so boos is, dat jy dit met niemand kan deel nie.  As ander mense iets gehad het wat jy wou hê, het jy hulle beny.  Jý wou dit gehad het, en jy sou selfs dinge doen sodat hulle dit óók nie kon hê nie.  Jy was so ‘n lelike mens dat ander jou gehaat het.  En jy het hulle terug gehaat deur stilstuipe, bitterheid, vegtery, lelike woorde, vermyding, en selfs moord.

En toe kom red God jou (v.4).  Rakende hierdie redding verduidelik Paulus hoekom ons redding nodig gehad het (v.3), wanneer God se reddinsplan voltrek is (v.4), wat die basis vir ons redding is (v.5a-b), wat die metode is waardeur ons gered is (v.5c-6), wie dit is wat ons gered het (v.6), en wat die doel met ons redding si (v.7).  Ons het reeds in vorige preke vier of vyf van hierdie punte aangeraak.  Kom ons hanteer vandag die res.

Ek is lief vir tuinmaak.  Ek het so ‘n jaar gelede ‘n liefde hiervoor begin ontwikkel.  Ek leer maar soos wat ek gaan.  Iemand het eenkeer vir my gesê dat die plante baie beter groei met reënwater as met gewone kraanwater.  En noudat dit so lekker gereën het in die afgelope weke kan ek dit sien.  Dit werk ook so met geestelike reën.  Dit was omdat die Heilige Gees soos die lentereëns uitgestort is dat ons nuwe lewe in ons harte ontvang het (v.5-6).  Ek het reeds in ‘n vorige preek verduidelik wat Paulus bedoel wanneer hy sê dat die Gees ryklik uitgestort is.  Ek het ook verduidelik hoe die Heilige Gees volkome God is; hoe Hy uit die Vader en die Seun voortgestuur is (sien v.6).  Dit is Sý nuutmaking wat ons instaat stel om geduldig te wees met ander en om hulle te respekteer.

In John Bunyan se Pilgrim’s Progress ontvang Christen ‘n boekrol by die kruis.  Sonder hierdie boekrol (sertifikaat) kon hy nie by die hemelse stad inkom nie.  Dit was as’t ware sy paspoort tot die hemel.  Die Heilige Gees is die Een wat nuwe lewe in ons skep en aan ons geloof gee.  Die gevolg hiervan is dat ons regverdig verklaar word deur die Vader (v.7).  Die Heilige Gees waarborg dat ons die erfdeel van die ewige lewe sal ontvang (v.5-7).  Op ‘n ander plek skryf Paulus:  “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.” (Efesiërs 1:13-14).  Dit blyk dat Paulus dieselfde gedagte in <st1:bcv_smarttag>Titus 3:5-7 probeer oordra.  Niemand kan ‘n erfdeel kan verdien nie.  En net so ontvang ons die ewige erfenis van die hemel deur genade – dit is onverdiend (v.7).  Deur regverdigmaking word alles wat Jesus s’n is, ons s’n.  En juis daarom kan ons die ewige lewe as erfenis ontvang deur die hemelse Erfgenaam (sien Romeine 8:17).

Ons het reeds gesê wat hierdie erfdeel is.  Ons teks sê dit is die ewige lewe (v.7).  Ons het reeds hierdie erfenis ontvang, en tog lê die finale vervulling daarvan nog in die toekoms.  Die ewige lewe is ‘n kwaliteit sowel as ‘n kwantiteit lewe.  Dit beskryf vir hoe lank ons gaan lewe (vir altyd en altyd), maar ook hoe ryk en vol hierdie lewe saam met Jesus sal wees (sien Johannes 17:3).  Hoe kan ons verseker weet dat ons hierdie erfenis sal ontvang?  Paulus sê dat ons op die erfenis van die ewige lewe hoop (v.7).  In die Bybel is hoop nie ‘n onsekerheid soos:  “Ek hoop die son skyn Saterdag.”  Wanneer ons só na hoop verwys beteken dit dat die son dalk mag skyn en dalk nie.  In die Bybel is hoop seker.  Hier is die voorbeeld wat Paulus in gedagte het.  God het belowe dat almal wat gered is, hemel toe gaan.  Ons het ‘n onbeweeglike hoop dat God sy belofte kan en sal vervul.  Dít is wat die Bybel met hoop bedoel.  God het ons redding begin (v.3-6) en Hy sal dit vervul tot die einde toe (v.7).  Wat God gesê het oor verlossing in v.4-7 is betroubaar.  En dit is van híérdie verlossing wat Paulus in v.8 sê:  “Dit is ‘n betroubare woord…”  Dit is betroubaar juis omdat God altyd die waarheid praat en nie kan lieg nie (1:2).

Respekteer jy ander soos wat hierdie verse jou beveel?  Is jy disrespekvol teenoor jou ouers, onderwysers, jou baas, jou ouderlinge en ander kerkleiers, die owerhede van ons land, die polisie en verkeerspolisie, en ander gesagsfigure in jou lewe?  Betoon jy disrespek aan jou vrou, jou man, jou kinders, ou mense, of mense van ‘n ander velkleur?  Indien jou antwoord op hierdie vrae ‘nee’ is, is omdat jy nie die Here en sy Woord respekteer nie.  As jy jou eie sonde en God se genade sien (v.3-7) sal jy geduldig wees met ander mense.  ‘n Disrespekvolle persoon is waarskynlik ‘n ongeredde persoon.  Maar God kan vir jou ‘n nuwe hart gee.  Hy het sy Seun gestuur om aan die kruis te sterf vir sondaars; om die straf vir hulle sonde op Homself te neem.  Niemand kan dus deur sy eie werke gered word nie.  Ons word gered deur God se vrye genade alleen.  Om die voordele van Jesus se kruisdood en opstanding te ontvang moet jy weergebore word.  Dit kan alleen gebeur deur ‘n soewereine werk van die Heilige Gees – deur wedergeboorte.  En wanneer dít gebeur het en jy geestelik ontwaak het, dan moet jy jou bekeer en in Jesus glo.  God sal jou onskuldig en regverdig verklaar deur die meriete van Jesus se volmaakte lewe en kruisdood.  En eers dán sal jy dit regkry om ander te respekteer.