Die heel eerste sonde

Selfie

Tussen 1910 en 1919 was Louis Botha eerste minister van Suid-Afrika.  Die feit dat hy die eerste minister was, dui aan dat hy die belangrikste man in die land was.  Maar hy was ook eerste eerste minister in ons land se geskiedenis.

 

So is dit ook met hoogmoed.  Dit is die eerste sonde wat gepleeg is, maar is ook bo-aan die lys van sondes.  Dit is die atleet wat eerste die wenstreep kruis, maar is ook die ESKOM wat aan elke ander sonde sy krag gee.  Jes.13:1-14:23 wys vir ons waar dit begin het, hoe dit in die praktyk lyk, en wat die skrikwekkende gevolge daarvan is.

 

Eerste in rang (13:1-22)

Arthur is die koning van Engeland.  Terwyl hy in Kontinentale Europa was, het twee mans in die paleis ingekom en die koningin vermoor.  Die koning het hom voorgeneem om hulle te vang en te hang.  Hulle het belowe om vir hom ‘n skatkis vol goud en diamante te gee as hy hulle lewens spaar, maar hy het geweier en hulle doodgemaak.

 

Dit is hoe die Here oor hoogmoed voel:  Hy sal aktief teen jou wees en dinge vir jou nag maak.  In Jes.13 het ons ‘n illustrasie hiervan.

 

Aan die einde van die sewende eeu v.C., het Babilon by Assirië oorgeneem om die wêreld se nuwe supermag geword.  In 586 v.C. het hulle Jerusalem verwoes en die Israeliete gevange geneem.  Veertig jaar later het God die Meders en die Perse gebruik om die Babiloniërs tot ‘n val te gebring en sy volk te bevry.  Meer as 150 jaar voor dit, het Jesaja die seun van Amos dit voorspel (13:1).

 

Die banier moes op ‘n kaal berg opgehef word, sodat die Meders en die Perse dit duidelik kon sien, en hulle Babilon se stadspoorte – die plek waar die edeles gesit het – kon binneval (13:2).  God het die Meders vir Homself afgesonder en hulle beveel om die Babiloniërs aan te val (13:3).  Hy het hulle trotste en dapper helde gestuur om sý wraak uit te oefen (13:3).  Hulle was as’t ware die wapens van sy toorn om die land of aarde te vernietig (13:5).

 

Die gedruis van hierdie groot weermag kon op die berge gehoor word (13:4).  Die Here van die leërskare het die koninkryke van die nasies teen Babilon versamel (13:4).  Medië en Persië was 700 km noord en oos van Babilon.  Vir iemand wat dit per kameel en in sandale gereis het, was dit ‘n ver land aan die einde van die hemel (13:5).

 

Maar alhoewel die land ver was, was die dag van die Almagtige God en sy verwoesting naby (13:6).  Die Babiloniërs sou gehuil het; hulle hande sou slap geword het, hulle harte sou gesmelt het, hulle moed sou in hulle skoene gesak het (13:6-7).

 

Hulle sou verbouereerd en verskrik gewees het (13:8).  Soos ‘n vrou met kraampyne, sou hulle inmekaar gekrimp het (13:8).  Hulle sou met verskrikking en verbasing na mekaar gekyk het.  A.g.v. die verleentheid, sou hulle wange rooi geword het (13:8).  Die dag van God se toorn en vuurgloed sou die land soos ‘n woestyn laat word het, en die sondaars daarin vernietig het – dit sou ‘n verskriklike dag gewees het (13:9).

 

Die sterre en konstelasies, die son en die maan sou opgehou het om lig te gee; dit sou donker gewees het (13:10).  Jesaja gebruik waarskynlik simboliese taal om die Here se oordele mee uit te druk (Esg.32:7-8, Joël 2:2, 10, 31, 3:15, Am.8:9, Sef.1:15, Mt.24:29, Op.6:12-13).

 

God sou nie net die Babiloniërs geoordeel het nie, maar al die bose mense op aarde (13:11, vgl. hfst.14-24).  Hy het hulle vir hulle arrogante hoogmoed geoordeel, sodat mense so skaars geword het soos die goud van Ofir (13:11-12, vgl. 10:19).  Die hemele het gesidder en die aarde is uit sy plek geskud; in sy vurige woede het die Here ‘n geweldige aardbewing gestuur (13:13).

 

Die Babiloniërs was soos ‘n gemsbok wat gejag word, en soos skape sonder ‘n herder:  elkeen het na sy eie land toe gevlug (13:14).  Baie van hulle het nie veilig by die huis aangekom nie, en is met die swaard deurboor (13:15).

 

Die vyand het hulle kinders voor hulle oë teen die rotse doodgeslaan (13:16, Ps.137:8-9).  Hulle het die Babiloniërs se huise geplunder, hulle vroue verkrag, hulle jongmense met pyle doodgeskiet en hulle kinders geslag (13:16, 18).  Geen omkoopgeskenk sou hulle gekeer het nie (13:17, Sp.11:4).  God het hulle teen die Babiloniërs gestuur (13:17, Dn.5:28-31), maar het nie vir hulle gesê om sulke lelike dinge te doen nie; die boosheid was in hulle eie harte (vgl. 10:5-7).

 

En tog was dit God se toorn wat die Chaldeërs of Babilonieërs se heerlikheid en trots vernietig het; dit is Hý wat hulle soos Sodom en Gomorra gemaak het, sodat daar vandag nie meer ‘n stad, mense of skape is nie, maar wilde diere wat in die bouvalle bly (13:19-22).  Die tyd van Babilon se verwoesting was naby, en sou nie vir lank uitgestel word nie (13:22, 6, Op.1:1, 3).

 

Eerste in tyd (14:1-23)

My pa se broer was ‘n sentimeter kort van 2 meter, en het maklik 110 kg geweeg.  Maar toe hy op sy sterbed was, het hy soos ‘n geraamte gelyk.  Sonde is soos ‘n geestelike kanker wat maak dat dié wat in die doderyk is, papswak is.  Die grootste deel van hfst.14 wys dit vir ons.

 

As die Here klaar die Babiloniërs verwoes het (hfst.13), sou Hy weer vir Israel gekies het (14:1, Sg.1:17).  Deur die koning van Persië het Hy vir Israel na die Land toe teruggebring om oor die verdrukkers te heers (14:1-2, 2 Kron.36:22-23).  In die toekoms sou die heidene deel gewees het van God se volk (14:1, Rut 1:16, Rm.11, Ef.2:11-22, 1 Pt.2:9-10).

 

Kort nadat die Here sy volk van die pyn, onrus en harde dienswerk bevry het, het hulle met die koning van Babilon gespot (14:3-4).  ‘Waar is sy onderdrukking nou?’ het hulle gesê (14:4).  ‘Die Here het die goddelose koning se staf gebreek, sodat hy nie meer die nasies daarmee kan slaan nie (14:5-6, 9:3).  Nou kan almal rus en vrede hê, en van blydskap sing (14:7-8).

 

‘Selfs die doderyk het ontwaak en regop gesit.  Die skimme of geeste van bose konings wat op die aarde geheers het, het gereed gemaak om hom te ontmoet (14:9).  Die dood het hulle van hulle trone afgeruk in die doderyk in (14:9).  “Wel, wel, is dit nie die magtige koning van Babilon nie?” het hulle gesê.  “Nou het jy so swak soos ons geword; ‘n skim soos die res van ons.” (14:10).[1]

 

‘Daar lê die trotse koning van Babilon in die doderyk, sonder enige musiek om hom bly te maak; wurms is die matras en die kombers wat aan hom knaag (14:11, 66:24, Mk.9:48).  Hy was so hoogmoedig soos die duiwel, en het daarom soos die duiwel geval (14:12-15, 1 Tm.3:6).  Eintlik het die duiwel hom in sy hoogmoed aangehits, soos hy dit ook met ander konings gedoen het (Dn.10:13, 20-21, Esg.28:11-19).

 

‘In ‘n sekere sin was die val Babilon se koning ‘n herhaling van die duiwel s’n.  “Ek is so skoon soos die môrester en die son wat in die oggend opkom,” het hy gesê (14:12).[2]  Die duiwel was inderdaad beeldskoon en baie wys (Esg.28:12-15).  Maar omdat hy in sy hoogmoed gesondig het, het die Here hom soos ‘n groot boom afgekap (14:12, Esg.28:15-18).

 

‘En omdat die koning van Babilon die nasies tot ‘n val gebring het, het God hom soos die duiwel laat val (14:12).  Die twee van hulle het gesê:  “Ek sal hoër as die sterre van God wees en my troon bo almal op die berg van samekoms in die noorde verhef.  Ek sal bo die wolke wees en myself soos die Allerhoogste maak” (14:13-14, vgl. Gn.3:5, 11:4, 2 Ts.2:4, Mt.11:23).  Satan en die koning van Babilon het hoog geklim, en daarom ook ver geval (14:13, 15).

 

‘Almal in die doderyk het die koning aangekyk:  “Is dít die man wat koninkryke en stede omgekeer het, mense ontvoer het, en die aarde soos ‘n woestyn laat word het?” (14:16-17).  Hy het sy land en volk verwoes, en het daarom nie ‘n koninklike begrafnis gehad nie.  Hy is soos ‘n vrot tak in ‘n massa-graf gegooi, met ‘n klomp lyke bo-op hom.  Sy graf was ongemerk, sodat mense nie eers geweet het hulle trap op hom nie (14:18-20).

 

‘Omdat die koning se seuns hulle pa se slegte voorbeeld gevolg het, het God die familienaam uitgewis (14:20-22).  Babilon het nie meer aan hulle behoort nie, maar aan die wilde diere van die veld (14:23).  Die groot stad met sy pragtige paleis was waterplasse (14:23).  God het dit met die besem van verwoesting gevee (14:23).

 

Hoe moet ons hierdie twee hoofstukke toepas?  God het alles tot sy beskikking om die lewe vir jou moeilik te maak as jy hoogmoedig is.  In Jes.13 alleen het Hy toegelaat dat hoogmoedige Babilon ‘angsaanvalle’ kry (13:8), hulle kinders, huise en besittings verloor (13:16, 18-19, 21), en fisies beskadig word (13:16).  Hy kan ook toelaat dat:

 

  • Jou huwelik en gesin uitmekaar uit val (Sp.15:25).
  • Jy jou belangrike posisie of jou werk verloor, terwyl iemand wat minder bekwaam is as jy, bevorder word (Dn.4, Lk.1:52).
  • Jy verstrooid raak en nie meer reguit kan dink nie (Lk.1:51).
  • Die samelewing jou verwerp (Dn.4:33, 37).
  • Jy in die tronk beland (2 Kron.33:11-12).
  • Mense jou kritiseer, aanval, beskinder en leuens oor jou vertel (2 Kor.12:7, 10).
  • Die duiwel en sy demone jou teister (2 Kor.12:7).
  • Jy jou uiterlike skoonheid verloor (Jes.3:16-24).
  • Jy in sirkels gaan en gefrustreerd raak (Dt.8:2).
  • Jy siek word (2 Kron.26:16, 19-21).
  • Jou gebede nie beantwoord word nie (Job 35:12).
  • Jy jou lewe verloor (2 Kron.33:23-24, Dn.5:22, 30).
  • Enigiets onder die son met jou gebeur.

 

Indien so iets al met jou gebeur het, beteken dit nie noodwendig dat die Here jou tugtig omdat jy hoogmoedig is nie.  Maar die kanse is goed, omdat elke mens van tyd tot tyd met hoogmoed sukkel (sommige meer as ander).

 

Om bv. te bepaal of ‘n groepfoto goed was, kyk jy hoe jý gelyk het:  was jou hare netjies en jou oë oop?  Ons geniet dit om onsself in die winkelvenster te sien.  As ons dit reggekry het om ‘n paar kilogram af te skud, boer ons voor die spieël.  Ons is mal oor selfies, en het ‘n obsessie met wat mense van ons dink op Facebook.  Ons dagdroom oor hoe mense van ons hou, en oor hoe ons suksesvol en populêr is.  Ons doen die dinge waarvan ons hou, en neem nie die res van die gesin se voorkeure in ag nie.

 

Ons verskoon ons sonde, en erken nie sommer dat ons verkeerd is nie.  Ons sukkel om meer as ‘n paar minute aan danksegging te spandeer, omdat ons dink ons verdien die goeie dinge wat met ons gebeur.  Soms is ons biddeloos, omdat ons op onsself en ons vermoeëns staatmaak, en nie op die Here nie.

 

Omdat hoogmoed diep in die mens se hart gewortel is (Mk.7:22), is dit bitter moeilik om uit te roei.  En tog móét ons dit uitroei, omdat God hoogmoedige mense weerstaan en tot ‘n val sal bring (Sp.16:18, Mt.23:12).  Hoe kan ons hierdie dodelike plaag uit ons harte uitroei?

 

[1] Meet jouself aan God se heilige standaard in die Bybel.  Erken dat jy baie ver kortskiet, dat jy vol van sonde is, dat jy God se oordeel in die hel verdien, en dat jy niks kan bydra om sy guns te wen nie.  Sê vir Hom dat jy in sý hande is, en dat Hy met jou kan doen soos Hy wil.  Smeek dat Hy jou genadig sal wees, en bely dat Jesus se lewe, kruisdood en opstanding jou enigste hoop is.

 

[2] Dink ná oor wie die Here is:  ewig, almagtig, alwetend, alomteenwoordig, onveranderlik, ens.  As jy diep en lank genoeg dink, sal jy besef dat jy klein en onbelangrik is.

 

[3] Dink daaroor dat die Here jou sal weerstaan as jy hoogmoedig is (Jk.4:6).

 

[4] Onthou dat hoogmoedige mense in die doderyk en die hel sal wees (Jes.14).

 

[5] Dink aan jou mislukking en sonde van die verlede:  het jy regtig rede om in jouself te roem?

 

[6] Dank die Here dat die goeie dinge wat jy het van Hom af kom (1 Kor.4:7).  Roem in Hóm en nie in jouself nie (1 Kor.1:31).

 

[7] Aanvaar beproewing as God se manier om jou nederig te maak (2 Kor.12:7, 1 Pt.5:6-7).

 

[8] Bid daagliks vir nederigheid.  Bid saam met Augustinus:  ‘Lord, deliver me from that bad man, myself.’

 

[9] Onthou dat Jesus nederig was en die duiwel hoogmoedig.  Soos wie wil jy wees?

 

[10] Assosieer met nederige mense en vermy trotsaards (Rm.12:16, 2 Tm.3:2, 5).

 

[11] Dink oor God se uitverkiesing en genade; jy sal gou agterkom dat jy niks is nie (1 Kor.1:28-29, Ef.2:8-9).

 

Op hoërskool het ek van parasiete geleer:  hulle teer op ‘n ander organisme, en kry hulle lewe en krag van hierdie organisme af.  Met hoogmoed werk dit ook so:  elke ander sonde kry sy krag by hierdie eerste sonde.  Fokus dan daarop om hoogmoed uit te roei, en dan sal baie ander sondes saam met dit vrek.

 

[1] Let op dat die dooies swak is.  Hulle sweef nie op die aarde rond om dié wat nog lewe bang te maak en te verpes nie.  ‘The dead…can neither help nor hurt the living…’ (Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.144).

[2] Die karakter in v.12-15 verwys soms na die duiwel, soms na die koning van Babilon, en soms na beide.

Die millennium en daarna

Burning earth

Mense het ‘n natuurlike nuuskierigheid oor die toekoms.  Dit is hoekom daar so iets soos toekomsvoorspellers is.  Hulle kan egter nie regtig die toekoms voorspel nie, omdat net die ware God dit kan doen (Jes.41:22-23).  Hy het in die Bybel deur die apostels en die profete vir ons gesê wat in die nabye en in die verre toekoms gaan gebeur.  Op.20:4-10 is een van vele tekste wat oor hierdie dinge praat.

 

Die millennium (v.4-6)

John Owen was ‘n prediker en teoloog wat in die 1600’s gelewe het.  Hy is daarvoor bekend dat hy moeilik geskryf het.  Dié wat dit geniet om hom te lees sal egter vir jou sê jy kan hom verstaan as jy hom noukeurig en stadig lees.  So is dit ook met Op.20:  dit is moeilik, maar as jy dit frase vir frase neem kan jy dit verstaan.  Selfs as jy nie elke detail verstaan nie, is dit moontlik om die breë trekke te verstaan.

 

Johannes het trone gesien:  dié wat gesag ontvang het om te oordeel het daarop gesit (v.4).  Hy het ook die siele gesien van dié wat vir die getuienis van Jesus en vir die Woord van God onthoof is (v.4).  Hulle het nie die dier of sy beeld aanbid nie; hulle het ook nie sy merk op hulle regterhande of voorkoppe ontvang nie; hulle het die Here gevolg en nie soos die wêreld gelewe nie (v.4).[1]

 

Wat beteken hierdie vers?  Dié wat op die trone gesit het, mag dalk die apostels wees wat die hele kerk verteenwoordig (Lk.22:30).  Alhoewel die martelare se siele aandui dat hulle in die hemel was (v.4, Heb.12:23), was dié wat op die trone gesit het in die hemel en op die aarde.  In die toekoms sal ons op trone sit en saam met Jesus regeer (3:21, 5:10, 22:5).  En tog is daar ‘n sekere sin waarin ons reeds saam met Hom in hemelse plekke sit (Ef.2:6, Kol.3:1, 3).

 

Die martelare se siele het lewend geword en vir ‘n duisend jaar saam met Jesus regeer (v.4).[2]  Dit is die eerste opstanding (v.5).  Die eerste opstanding verwys na Jesus se opstanding (2:8, 1 Kor.15:20, 23, Kol.1:18), en na dié wat deur wedergebore daarin deel (v.6, Kol.2:12, Ef.2:5-6).

 

Die tweede dood of die hel het geen mag oor hulle nie (v.6, 14, 21:8).  Hulle is wedergebore en sal daarom nie hel toe gaan nie (2:11).  Tydens die duisend jaar sal hulle as priesters en konings van God en die Messias regeer (v.6, 1:6, 5:10, 1 Pt.2:9).

 

Die res van die dooies in v.5 het nie deur wedergeboorte in Jesus se opstanding (die eerste opstanding) gedeel nie, maar sou net aan die einde van die duisend jaar in die tweede opstanding van die liggaam gedeel het (v.5).

 

Premils maak beswaar:  ‘Hoe kan jy sê dat die eerste opstanding geestelik is, terwyl die tweede een liggaamlik is – is jy nie besig om in die teks in te lees wat daar nie staan nie?’  Nee.  Die konteks en die res van die Skrif vereis dat ons die teks so moet interpreteer.  Buitendien is die eerste opstanding nie net geestelik nie maar liggaamlik, omdat dit na Jesus s’n verwys.

 

Omdat ons deur wedergeboorte daarin deel, kan ons sê dat die eerste opstanding liggaamlik en geestelik is, terwyl die tweede een net liggaamlik is (Rm.8:11).  Die eerste dood is liggaamlik, terwyl die tweede een liggaamlik en geestelik is in die hel (Mt.10:28).

 

As Johannes dan die twee dode verskillend interpreteer, weet ek nie hoekom premils dink dit is vergesog wanneer post- en amils die twee opstandings verskillend interpreteer nie.  Johannes self het dit so geïnterpreteer:  Jh.5:24-25 praat van ‘n geestelike opstanding, terwyl Jh.5:28-29 van die opstanding van die liggaam praat.

 

In die lg. teks wys Johannes ook dat daar net een opstanding van liggaam is, en nie twee of meer soos wat premils sê nie.  Ek sal in die volgende preek meer hieroor sê.

 

As jy vir mense van Jesus vertel en die Woord van God met hulle deel, sal hulle jou haat (v.4, 6:9).  Een van ons lidmate is hierdie week deur haar baas ingeroep.  ‘Jy mag nie meer die evangelie by die werk deel nie; as jy weer oor Jesus praat gaan ons jou afdank,’ het hy gesê.  Die wêreld sal jou haat net omdat jy aan Jesus behoort (Jh.15:18-25).

 

Maar moenie dat dit jou afsit nie.  Onthou dat jy saam met Jesus regeer, en dat die wêreld jou erfdeel is (v.4, 6, Mt.5:5, 1 Kor.3:21-23).  God het jou geheilig of afgesonder om in hierdie seën te deel (v.6, 14:13, Ef.1:3).  Jou taak is om seker te maak dat jy deur wedergeboorte in Jesus se opstanding deel (v.4-6).

 

Hoe doen jy dit?  Net soos wat ‘n kind homself nie verwek en in die wêreld inbring nie, kan geen mens homself wederbaar nie.  Geestelike geboorte kom van God af; dit is Hý wat ons in die eerste opstanding laat deel (Jh.1:13, Ef.2:4-6, Jk.1:18, 1 Pt.1:3).

 

Vra dan vir Hom om Christus se lewe in jou hart te plant.  Glo dat Hy dit sal doen, omdat Jesus in sy kruisdood die straf gevat het wat ons moes kry.  Glo ook dat Hy dit kan doen, omdat Jesus uit die dood uit opgestaan het en vir ewig lewe.  Los die sonde waarvoor jy so lief is, en vra dat Hy jou sal vergewe.  As jy dit nié doen nie, sal jy in die tweede dood van die hel deel (v.6).  En dit sal die fout van jou lewe wees.

 

Die wederkoms (v.7-10)

Toe ek in Nelspruit gebly het, het ek elke tweede Sondag ‘n man in die tronk gaan besoek.  Hy was baie bly toe hy uitgekom het.  Ek het met hom gepraat toe hy weer by sy ouers gebly het.  Maar van wat ek verstaan het hy na sy ou weë toe teruggekeer, en is hy tronk toe.  Blykbaar het die tronk nie sy hart verander nie.

 

Net so het die duiwel se tronk in v.1-3 nie sy hart verander nie (nie dat dit die bedoeling was nie).  Toe hy vrygelaat is, het hy sy bose streke voortgesit (v.7-8, 3).  As ‘n laaste poging het hy probeer om die nasies te mislei (v.8).  Hy het die ongelowiges onder hulle van oral af gebring om God se kinders te vervolg (v.8).

 

Hulle was soos die sand van die see.  Volgens die Bybelse gebruik van die term beteken dit dat daar ‘n paar honderd duisend of dalk ‘n paar miljoen van hulle was (Dt.1:10, Jos.11:4, Rgt.6:5, 7:12, 1 Sm.13:5, 1 Kon.4:20, Heb.11:12).  Die teks dui dus nie noodwendig aan dat hulle meer was as die gelowiges nie.

 

Volgens v.8 is hulle Gog en Magog genoem.  In Esg.38-39 is Gog en Magog ‘n ander naam vir Antiochus Epifanes wat teen Israel baklei het, maar deur God se ingrype oorwin is.[3]  In Op.20:8 is Gog en Magog ‘n simboliese naam vir die nasies wat onder die duiwel se invloed teen God se kinders baklei het.  Soos met die ander name in Op.2, 11, 18 (Isebel, Sodom, Babilon), verwys Gog en Magog in v.8 nie na die Ou Testamentiese figure nie, maar is dit ‘n simboliese naam.

 

Soos in Esg.38-39 het God die duiwel en sy handlangers teen die kerk versamel, omdat Hy hulle op een slag wou uitwis.  Hulle het oor die breedte van die land of aarde gekom om die kamp en die geliefde stad van die heiliges te omsingel (v.9, Hab.1:6).  Die kamp en die geliefde stad verwys na die hemelse Jerusalem of die kerk (21:2, 2 Kor.11:2, Gal.4:26, Heb.12:22, 13:12-14).

 

Volgens die belofte in Mt.16:18 kon Satan nie teen die kerk gestaan het nie.  Jesus het na die aarde toe teruggekeer om hom en sy goddelose magte met vuur te vernietig (v.9, 2 Ts.1:6-8, 2 Pt.3:10, 12, vgl. Gn.19:24, 2 Kon.1, Esg.38:22, Lk.9:54).  Hy is in die poel van vuur en swawel gegooi waar die dier en die vals profeet alreeds was (v.10, 19:20).  Daar het God hom vir sy boosheid gepynig – vir ewig (v.10, 14:10-11).

 

Die duiwel kan nie met Jesus vergelyk word nie. Sy mag is geleen; hy kan nie doen wat hy wil nie.  As hy en sy demone die Here se kinders wil versoek of ander groot bewegings wil maak, moet hulle toestemming kry (Job 1:6-12, 2:1-6, Lk.8:32, 1 Jh.5:18).  Dit is nie ‘n gelyke speelveld tussen Christus en die duiwel nie (v.9).

 

Wat ‘n charismaat eenkeer vir my gesê het, is loutere onsin:  ‘Omdat daar so iets soos geestelike wette is, moet God by die reëls hou.  Gevolglik kan die duiwel partykeer vir Hom sê om dinge te doen wat Hy andersins nie sou of wou doen nie.’  Die implikasie is dat die duiwel vir God kan ‘black mail’.  Hy kan Hom m.a.w manupileer, in ‘n hoek dryf, en in skaak sit.

 

Bog, snert, vuilgoed en twak.  Die duiwel sidder voor God en praat nie terug wanneer Hy vir hom sê wat om te doen nie (Mt.4:10-11, Mk.1:23-26, Jk.2:19).  Sorg daarom dat die duiwel en nie Jesus nie, jou vyand is.  Dank die Here dat jy aan die wen kant is, en dat die Heilige Gees wat in jou woon sterker is as die duiwel (Rm.8:31, 1 Jh.4:4).

 

Ons moenie die duiwel uittart nie (2 Pt.2:10-11, Jud.8-9), maar ons moet ook nie in vrees lewe asof hy die mag het om te doen wat hy wil nie.  Jesus sal ons beskerm en die duiwel se aanvalle gebruik om ons te bevoordeel (Rm.8:28).  En as Hy hom klaar soos ‘n ou stoflap gebruik het om ons blink te vryf, sal Hy hom vir ewig in die hel gooi (v.10).

 

Moet asb. nie die idee kry dat die hel ‘n plek is waar die duiwel met ‘n drietand vurk rondloop om ongelowiges te pynig nie.  Dit is nie naastenby die geval nie.  In 2004 het Rick Holland by ‘n konferensie gesê:  ‘Satan is not the captain of hell, but the chief captive of hell’ (vgl. Mt.25:41).  God is soewerein oor Satan.

 

As jy ‘n goeie fliek kyk en jou kind vir jou sê hoe dit gaan eindig, is dit ‘n anti-klimaks en kan jy net sowel die storie afsit.  Maar met die millennium en dit wat daarna gaan gebeur is dit nie so nie.  Die feit dat God reeds die einde bepaal het (Jes.46:10, Ef.1:11) en vir ons gesê het hoe dit gaan afspeel, stel ons gerus.

 

[1] Sien my preek, Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666) vir ‘n verduideliking hiervan.

[2] In die vorige preek het ek gewys dat die duisend jaar simbolies is van die tydperk tussen Jesus se eerste koms en sy tweede een.  Die preek se titel is, Die goue era van postmillennialisme as jy dit dalk wil opsoek.

[3] David Chilton, The Days of Vengeance, p.206 en William Hendriksen, More Than Conquerors, pp.232-234

Die duiwel se nederlaag

defeated-dragon

In J.R.R. Tolkien se boek The Hobbit, is daar ‘n gevaarlike draak genaamd Smaug.  Niemand kon daarin slaag om die draak dood te maak nie, totdat ‘n sekere Bilbo Baggins ‘n swakplek op die draak se onderkant raakgesien het.  Hy het sy vriende daarvan vertel.  Toe die draak hulle later aangeval het, het Bard die boogskutter vir Smaug dodelik gewond.  En is dit nie wat die Here in Op.12 met die vuurrooi draak Satan gedoen het nie?  Kom ons bekyk hierdie hoofstuk van nader.

 

Die vrou, die kind en die draak (v.1-6)

In George Orwell se boek, Animal Farm, word persone soos Joseph Stalin, Vladimir Lenin, Karl Marx, Leon Trotsky en Adolf Hitler uitgebeeld as diere.  Elke plaasdier stel een of ander wet, filosofie, persoon of regering voor.

 

Die Jode het ‘n soortgelyke skryfstyl gebruik om hulle geskiedenis mee uit te beeld. Die skrikwekkende diere en drake het spesifieke persone en regerings voorgestel.

 

In een buite-Bybelse Joodse bron lees ons bv. van twee drake wat baklei het. Die Jode se hulpgeroep het as ‘n klein stroompie begin, maar toe in ‘n magtige rivier verander.  Volgens die outeur stel die drake vir Mordegai en Haman voor, terwyl die rivier vir koningin Ester uitbeeld.[1]

 

Ons weet dat Daniël en Openbaring baie sulke beelde bevat. In teologie praat ons van apokaliptiese literatuur.  Om hoofstukke soos Op.12 reg te verstaan moet ons dít in gedagte hou.  Mense wat dit vergeet, dink dat ons alles in hierdie boek letterlik moet verstaan.  En as jy dit doen, gaan jy jouself lelik vasloop.

 

Wat het Johannes in hierdie hoofstuk gesien? Daar was ‘n groot teken in die hemel (v.1).  ‘n Vrou was geklee met die son, het die maan onder haar voete gehad, en het ‘n kroon van twaalf sterre op haar kop gehad.  ‘n Vergelyking met Josef se droom in Gn.37:9-11 wys vir ons dat die vrou in Op.12 Israel met haar twaalf stamme is.  Soos die bruid in Hgl.6:10 is sy “mooi soos die maan, rein soos die son”.

 

Sy was die Here se bruid (Jes.54:5, Hos.2:15). Hy was die son wat haar beklee het (Ps.104:2, 84:12, Jes.60:19-20).  Die maan het aangedui wanneer sy Hom by haar feeste moes aanbid het (Ps.81:4).  Hy het haar soos ‘n skitterende kroon in sy hand gehou (Jes.62:3, Sg.9:16).  Maar alles was nie maanskyn en rose nie.  A.g.v. die kraampyne het sy met smart uitgeroep dat die Messias gebore moes word (v.2, Gn.3:15-16, Jes.66:7-9, Mg.4:9-10, 5:1-2, Jh.16:20-21).

 

Johannes het nóg ‘n teken in die hemel gesien: ‘n groot vuurrooi draak (v.3, 17:3).  Uit v.9 weet ons dat dit die duiwel is.  Rooi is die kleur van bloed en wys dat hy ‘n moordenaar is (Jh.8:44).  Sy sewe gekroonde koppe en tien horings is simbolies van sewe Romeinse keisers en die tien keiserlike provinsies onder hulle (17:9-12, Dn.7:1-8, 17, 24).[2]  Satan is die draak wat die Romeine en elke ander wêreldryk aangehits het om God se kinders dood te maak (13:2, Jes.27:1, Esg.29:3).

 

Hy het ook ‘n derde van die engele saam met hom tot ‘n val gebring (v.4, 9, Jes.14:12-15). Hy het die dreigende belofte van Gn.3:15 geken (die vrou se nageslag sal sy kop vermorsel), en het daarom alles in sy vermoeë gedoen om te keer dat die Messias gebore word (v.4, Gn.4:8, 5:3, 6:5-8, 16:2, Eks.1, 1 Sm.18-26, 2 Kon.11:1-3, Est.3-10).

 

Ook ná die Messias se geboorte het hy probeer om Hom dood te maak (v.4-5, Mt.2:7-8, 12-18, Lk.4:28-30, Jh.5:18, 8:59). Met Jesus se kruisdood het die duiwel gedink dat hy sy doel bereik het.  Die waarheid was egter dat Jesus hom daar oorwin het (Heb.2:14).

 

Die duiwel kon Hom nie keer nie. Jesus het na sy Goddelike troon in die hemel toe opgevaar om met ‘n ysterstaf oor die nasies te regeer (v.5, 3:21, 19:15, Ps.2:8-9, 110:1, Dn.7:13-14, 1 Pt.3:22).  Ná Jesus se hemelvaart het God se bruid na die woestyn toe gevlug waar die Here haar vir 1260 dae, 42 maande of 3½ jaar lank versorg het (v.6).  Ek sal later meer hierop uitbrei.

 

Migael, die broers en die draak (v.7-12)

As jy mooi na die maan kyk sal jy grys vlekke daarop sien. As jy deur ‘n teleskoop daarna kyk sal jy sien dat hierdie grys vlekke canyon-tipe kraters is.  Met die teleskoop kry jy ‘n dieper perspektief as met die blote oog.

 

En so is dit ook in Op.12: die eerste ses verse gee vir jou ‘n aardse perspektief, maar wanneer jy v.7-12 lees kry jy ‘n hemelse perspektief.  In v.7-12 sien jy as’t ware v.1-6 vir ‘n tweede keer; jy sien wat in die geestelike realm gebeur het.  Een kommentator sê:  ‘This little vision reminds the believer that he is caught up in a wider conflict than the one he sees.’[3]

 

Die oorlog in v.7 gebeur dan nie ná v.6 nie, maar loop parallel met v.4-5. Dit was veral toe Jesus aarde toe gekom het wat die stryd intens geraak het.  Die aartsengel of hoofengel Migael en sy weermag het teen die duiwel en sy gevalle engele baklei en hulle oorwin (v.7-8, Dn.10:20-21, Jud.9).

 

Dit het gebeur toe Jesus en die apostels bose geeste uit mense uitgedryf het (Lk.10:17-18). Dit is nie dat Jesus Migael en die engele se hulp benodig het nie (net soos wat Hy nie die apostels se hulp benodig het nie).  Die punt is eerder dat Migael Koning Jesus se opdragte en planne uitgevoer het.  Jesus het die duiwel en sy gevalle engele se lot geseël toe Hy hulle deur sy kruisdood en opstanding oorwin het (Kol.2:14-15).

 

Kort na die skepping het Satan en sy engele teen God gerebelleer en tot ‘n val gekom (v.4, Jes.14:12-15, Esg.28:12b-17, 1 Tm.3:6). Hulle kon egter daarna nog in die hemel ingekom het om God se kinders aan te kla (Job 1-2, Sg.3).

 

Maar ná die oorwinning van Op.12:8-10 het God hulle uitgeskop: die draak wat verslind, die slinkse slang van Gn.3, die duiwel of teëstaander, die aanklaer of Satan, hy wat die wêreld bedrieg (v.8-9, 13:14, Jh.8:44, 2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19).  Jesus het deur sy kruisdood en opstanding die finale oorwinning bewerk en die kersie op die koek gesit (Jh.12:31).

 

Satan kon nog die gelowiges in hulle gewetens aangekla het, maar omdat God hulle deur Jesus se bloed vergewe het, het sy klagtes nie meer in die hemel standgehou nie (v.10-11, Rm.8:33-34, 37).

 

Die verlossing, die krag, die Koninkryk en die mag het aan die Vader en die Seun behoort, en daarom was die duiwel nie meer effektief om die evangelie te keer nie (v.10-11, 11:15). Die gelowiges het die voordeel gehad, op hulle eie speelveld en op syne.  Selfs toe hy hulle met die dood gedreig het, het hy hulle nie oorwin nie, maar hemel toe gestuur.  Hulle het Jesus bo hulle eie lewens liefgehad (v.11, 2:10, Lk.14:26, Jh.12:25).

 

A.g.v. die oorwinning oor Satan en sy engele was daar blydskap in die hemel (v.12). Maar vir die Jode in die land en die heidene oor die see was daar probleme (v.12).  Satan was woedend, omdat God hom finaal uit die hemel uitgeskop het (v.12).  Hy was soos ‘n gekweste buffel wat met sy laaste asem die gelowiges wou uitroei (v.12).

 

Die vrou, haar nasate en die draak (v.13-18)

Ek het al voorheen van Richard Wurmbrand vertel. Hy was vir omtrent ‘n dekade in die tronk, omdat hy die evangelie verkondig het.  Hy vertel hoe die Kommuniste hulle gemartel het.  ‘Hulle het ons in ‘n donker sel gesit en kinders gekry om in die selle langs ons te speel.  Dit het hulle gedoen, sodat ons na ons kinders sou verlang.’

 

Dit is ‘n taktiek wat mense deur die eeue gebruik het. As hulle jou regtig wil seermaak, dan vat hulle aan jou kinders.  En dit is presies wat die duiwel in hierdie verse probeer het:  omdat hy nie vir Jesus kon seermaak nie, het hy aan sy kinders gevat (Mt.25:40, 45, Hd.9:4).

 

Hy het die vrou agterna gesit om háár dood te maak (v.13). Maar sy het twee groot arendsvlerke ontvang om van die slinkse ou slang af weg te kom (v.14).  Die slang het geseil, maar met die Here se genade en hulp het sy bruid gevlieg (v.14, Eks.19:4, Dt.32:11-12, Ps.55:7-9, 91:4, 103:5, Jes.40:31).

 

Sy het in die woestyn in gevlieg waar die Here haar vir 3½ jaar lank versorg het (v.14, Lk.21:20-21, Heb.11:38). Soos wat die Here sy volk vir 40 jaar lank in die woestyn versorg het, het Hy die Joodse Christene in die eerste eeu vir 3½ jaar lank by Pella in die woestyn versorg (v.14, 6).

 

Die slang het water uit sy bek laat stroom om die vrou te verdrink (v.15). Die aarde het egter oopgegaan om die rivier in te sluk (v.16).  Wat beteken dit?  In die Ou Testament het Israel se vyande soos ‘n rivier teen haar gekom (Ps.124:2-4, Jes.8:7-8, Jer.46:8, 47:1-2).  Die Here het die rivier ingesluk, sodat die volk veilig was (Eks.15:12).

 

Nou het Hy ook die duiwel se aanvalle deur die Romeine afgeweer, sodat dit nie die Joodse gelowiges beskadig het nie (v.15-16). Dit het Hy gedoen deur die land [Gk. ] te laat oopgaan (v.16).  God het gemaak dat die rebelse Jode die vloed van die duiwel se aanval geabsorbeer het, sodat die Christen Jode nie deur hom getref is nie.

 

Die draak was woedend omdat hy nie die vrou (die Joodse gelowiges) kon doodmaak nie. Hy het toe weggegaan om teen die res van haar nageslag (die gelowiges uit die heidene) oorlog te maak (v.17, Gn.3:15).  Hy het dit gehaat dat hulle God se gebooie nagekom het, en die getuienis aangaande Jesus geglo en verkondig het (v.17).  Hy het op die strand gaan staan en die bose keisers van Rome oorkant die see aangehits om die gelowiges dood te maak (v.18, hfst.13).

 

Dit is dan so dat die duiwel nog nie gaan lê het nie.  En tog is hy reeds ‘n oorwonne vyand.  Jesus het hierdie leeu gevang en hom in ‘n hok gesit.  Maar moenie jou hand deur die tralies sit nie, want hy sal jou byt.

 

Wat beteken hierdie hoofstuk prakties vir ons? Ons kan dit eintlik in een sin opsom:  “Ek [sal] my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Mt.16:18).  Ja, die duiwel kan twis en verdeeldheid in die gemeente aanhits, maar selfs as hy dit doen kan hy nie die Here se werk keer nie.  Jesus sal sorg dat mense oor die wêreld heen tot bekering kom en by die gemeente gevoeg word.  Die evangelie sal uiteindelik in Kommunistiese Noord-Korea en in Islamitiese Saudi-Arabië triomfeer.

 

Ook Suid-Afrika sal in die toekoms weer die effek van hierdie kragtige evangelie voel. Die duiwel kan nie wen nie; sy koninkryk kan nie groter en sterker wees as Jesus s’n nie.  Deur sy bediening, kruisdood en opstanding het Jesus die sterk man vasgebind en is Hy stadig besig om sy gevangenes van hom af weg te neem (Mt.12:28-29).

 

“Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” (1 Jh.3:8). Paulus praat in Kol.1:13 van die Vader “wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde”.

 

Laat ons dan saam met Paulus werk, sodat ons ongelowiges “van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God” (Hd.26:18). Kom ons werk met die Here se krag om die duiwel en sy magte te “oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van [ons] getuienis” (v.11).  Ons kan dit net doen as ons besig is om die evangelie met ongelowiges te deel.

 

Ons moet ook spesifiek hiervoor bid, “want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor.10:4-5).

 

Ek weet dat ons dit in ons eredienste doen wanneer ons deur die lande van die wêreld bid. Maar dit is nie genoeg nie.  Ek wil jou uitnooi om een van die gemeente se bidure by te woon.  Diep in jou hart weet jy dat jy nie eintlik ‘n geldige verskoning het om weg te bly nie.

 

Kom bid saam met ons dat die Here mense tot bekering sal bring. Kom bid vir die Groenwalds se werk in Peru, en vir Nico van Zyl se werk in Tembisa en Kempton Park.  Kom bid dat die kinders in ons gemeente tot bekering sal kom.  Kom bid dat ons twee of drie jeug groepe kan begin (voorskool, laerskool en hoërskool) waar ons die evangelie met kinders en jongmense kan deel.

 

Kom bid vir die Kruisie-veldtog in Mei maand – dit is die perfekte geleentheid om ongelowige familie, vriende en kollegas kerk toe te nooi. Kom bid dat mense onder die prediking van God se Woord tot bekering sal kom.  Bid vir die mannegroep op Saterdae om 07:00, en nooi ongelowiges saam.

 

Ek beplan om teen volgende maand ‘n klomp traktaatjies in die portaal uit te pak. Vat daarvan en deel dit uit waar jy tussen mense beweeg.  Vertel vir mense van Jesus en sy wonderlike liefde.  Vertel vir hulle hoe Hy aan die kruis gesterf het om mense te red van God se heilige en regverdige oordeel oor hulle sonde, van sonde se heerskappy in hulle harte, en van die duiwel se mag om hulle sy slawe te maak en hulle in sy diens te hou.

 

Vertel vir hulle hoe Jesus dié mense sal red wat van hulle sonde af wegdraai om in Hom te glo. As jy dít doen sal jy mense uit die duiwel se vuil kloue uit red.  Die duiwel se nederlaag sal bevestig word en die Here sal verheerlik word.

 

Op hierdie punt is dit belangrik om vir jouself te vra of jý nog onder die mag van die duiwel is? Is jy blind, sodat jy nie die waarheid kan sien nie (2 Kor.4:4)?  Is die Bybel ‘n boek wat jou verveel, ‘n boek wat nie vir jou sin maak nie?  Loop jy miskien nog saam met die res van die wêreld agter die duiwel aan:  jou lewe en denkwyse lyk nie anders as die wêreld s’n nie; jy is vasgevang in die net van jou sonde (Ef.2:2, 1 Jh.5:19)?

 

Om uit te kom moet jy sterker wees as die duiwel. Jy weet goed dat jy nie ‘n kat se kans het nie.  Die duiwel is ‘n bose gees wat verskriklike dinge in mense se koppe plant.  Jy kan hom nie met gewere, messe of slim argumente wen nie.  Jy het die Here nodig.  Net sy kragtige kruisdood en opstanding is sterk genoeg om jou te help.  Roep Hom aan en vra vir Hom om jou te help.  Prys Hom, omdat Hy reeds die duiwel oorwin het.

 

Is jy ‘n ware Christen wat voel of die duiwel die oorhand oor jou gekry het? Sonde is die enigste houvas wat hy op ons het.  Bely dan jou sonde en bekeer jou daarvan.  Deur die bloed van Jesus wat jou sonde vergewe, kan jy die duiwel oorwin (v.11, 1 Jh.1:7, 9).  Omdat Jesus jou sondige rekord skoongevee het, het die duiwel eintlik nie ‘n houvas op jou nie (1 Jh.5:18).  Deur Jesus wat in jou plek staan, laat die Here nie meer die duiwel se klagtes teen jou in die hemel toe nie (Rm.8:33-34).

 

Wil jy die duiwel in jou daaglikse lewe oorwin? Wil jy weet hoe om ‘nee’ te sê vir sy versoekings om met jou geliefdes te baklei, bitter, wellustig, hoogmoedig en angstig te wees, verslaaf te wees aan sonde?

 

Klee jouself deur gebed met die Goddelike wapens van geloof, verlossing, geregtigheid, waarheid, die Woord van God, en bereidheid om die evangelie van vrede met mense te deel (Ef.6:10-18). Doen wat die Here vir jou sê.  So kan jy die duiwel se versoekings weerstaan, en sal hy van jou af wegvlug (Jk.4:7, 1 Pt.5:8-9).

 

Ek kan nie wag vir die dag wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, en Hy die duiwel vir ewig in die hel sal gooi nie (20:10). Die hartseer, pyn, sonde, boosheid en haat wat hy in die heelal ingebring het, kan nie gemeet word nie.  As ongelowiges soos twintig druppels swart ink in ‘n glas water is, is die duiwel onverdunde ink – hy is pure boosheid.

 

Prys die Here dat Hy die duiwel en sy magte vir ewig oorwin het. Maak asb. seker dat jy by Jesus in die hemel sal wees, en nie saam met hierdie bose en haatlike skepsel in die hel nie.

 

[1] Aangehaal in Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, pp.21-22

[2] David Chilton, The Days of Vengeance, p.175

[3] Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.160

God se waghond

wolf-growling

Ek het ‘n kort videosnit gesien van hoe ‘n buitelandse polisiemag hulle Duitse Herdershonde oplei. Die hond word geleer om net op sy baas se stem te reageer.  As die baas sê sit, dan sit hy.  As sy baas hom beveel om te lê of in die ronde te draai, dan doen hy dit.  As die baas vir hom sê om aan te val, dan gehoorsaam hy.  Terwyl hy op ‘n persoon afstorm, beveel sy baas hom om te stop.  Hy gaan lê dadelik en wag totdat sy baas weer ‘n bevel gee.

 

Die duiwel is nie ‘n goeie karakter nie, en God het niks sleg in Hom nie. En tog is die duiwel en sy demone soos ‘n gevaarlike waghond, wat niks kan doen totdat die Hemelse Baas sy toestemming gee nie.  Op.9:13-21 sal vir jou wys wat ek bedoel.

 

Die demone se mag (v.13-15)

Wanneer die regter ‘n gevaarlike misdadiger op parool vrylaat, is daar sekere reëls wat geld. Die misdadiger kan nie doen wat hy wil nie.  En tog kan hy die regter minag, die reëls oortree en in die moeilikheid kom.  Maar met demone is dit anders:  as hulle op parool vrygelaat word, kan hulle niks meer doen as wat die Here toelaat nie.  Ja, hulle kan verwoesting saai.  En tog kan hulle nie doen wat hulle wil nie.  Hulle kan net beweeg binne die perke wat God vir hulle stel.  So leer v.13-15 vir ons.

 

Die sesde engel het op sy trompet geblaas om God se oordele oor sy vyande aan te kondig (v.13). Johannes het ‘n stem gehoor tussen die vier horings van die goue altaar wat voor die Here was (v.13).  Die wierook op die altaar was simbolies van die geurige gebede van God se kinders (8:3-4, Ps.141:2).  ‘Neem wraak teen ons vyande wat ons vermoor het!’ het hulle in 6:10 gebid.  Die altaar se horings was simbolies van God se mag om hulle gebede te beantwoord en hulle vyande te oordeel (Eks.30:3, 1 Kon.22:11).

 

Die stem het vir die sesde engel met die trompet gesê om die vier engele wat by die Eufraatrivier was los te laat (v.14). Lg. verwys nie na heilige engele nie, maar na gevalle engele of demone wat weens hulle boosheid en sonde gebind was (vgl. 2 Pt.2:4).  Maar hoekom spesifiek by die Eufraatrivier?

 

Hierdie rivier was die ideale noordelike grens van Israel (Dt.11:24). In die Ou Testament het die Assiriërs en die Babiloniërs oor hierdie rivier gekom om die Israeliete aan te val (Jer.1:14-15).  Dit sal my nie verbaas as die vier gevalle engele van v.14 Israel se vyande teen haar aangehits het nie.  Ons sien in Jes.14, Esg.28 en Dn.10 hoe Satan agter die konings van Babilon, Tirus, Persië en Griekeland gestaan het.  En was dit nie hy en sy demone wat in 66 n.C. die Romeine teen Israel aangehits het nie?  Is dit toevallig dat die Romeine se tiende legioen Israel van die Eufraatrivier af binnegeval het?[1]  En is dit nie presies wat Johannes in v.14 voorspel het nie?

 

Die engel met die sesde trompet het die vier gevalle engele losgelaat op die uur, dag, maand en jaar wat God in sy soewereine raadsplan bepaal het (v.15, Jes.46:10, Ef.1:11). God het die duiwel teen sy ongehoorsame volk losgelaat (v.20-21).  Hy het vir die demone toestemming gegee om nie net die mense te pynig nie (v.5), maar om ‘n derde van hulle dood te maak (v.15, Esg.5:12).  Die feit dat hulle net ‘n derde van die mense kon doodmaak, wys weereens dat hulle sonder God se toestemming nie ‘n vinger kan verroer nie (v.14-15, 1-5, Job 1-2, Lk.8:32-33).

 

Vir gelowiges behoort dit ‘n troos te wees: as God vir jou is, sal Hy selfs die demone tot jou voordeel gebruik (Rm.8:31, 28).  Hy sal vir sy waghond sê om jou vyande te byt.  Is dit nie wat Hy in v.13-15 gedoen het nie?  Die vermoorde Christene het vir die Here gevra om hulle saak te beveg (6:10).  Hy het toe die duiwel en sy demone toegelaat om die kerk se vyande te byt (v.13-21).

 

Hier gaan dit nie oor ‘n persoonlike wrok wat jy teen iemand het, sodat jy vir die Here vra om die duiwel teen hulle los te laat nie. Dit gaan oor mense wat die kerk vervolg.  Ons moet vir hulle bekering bid (v.20-21), maar in dieselfde asem moet ons bid dat geregtigheid sal seëvier (6:10, 8:3-4).  Dit is nie verkeerd om te bid dat die Here sy kinders sal bevry van ‘n regering wat hulle onderdruk en vervolg nie.  Dit is heeltemal reg om te bid dat die Here vals kerke en hulle leraars, Islam, Kommunisme, en ander vals godsdienste soos die Titanic sal laat sink.

 

As die Here die duiwel en demone wil gebruik om dit te doen, is dit sy keuse. Ons moet net sorg dat ons nie self wraak neem soos wat die Westlike Katoliekekerk dit in die Middeleeuse Kruistogte gedoen het toe hulle die Moslems in Jerusalem aangeval het nie.  Ons moet dit in die Here se hande los.  “Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” (Rm.12:19).

 

Hoe versoen ons God se werk met die duiwel s’n in hierdie verse: God is tog nie die oorsaak van enige boosheid of sonde nie?  In 2 Sm.24:1 staan daar dat God vir Dawid aangehits het om die volk te tel, en in 1 Kron.21:1 lees ons dat die duiwel hom aangehits het (vgl. 1 Kon.22:19-22, Job 12:16, 2 Ts.2:10-12).  Sit God en Satan dan om dieselfde vuur?

 

Nee. God is soos ‘n goeie regter wat die polisie stuur om ‘n skelm te arresteer.  Die polisiemanne rand die skelm aan voordat hulle hom boei en in die polisiewa gooi.  Die regter is nie verantwoordelik vir die polisiemanne se bose optrede nie.  En so is dit ook met God en die duiwel:  die duiwel voer God se regverdige en goeie opdragte uit, maar hy doen dit met bose intensies (v.13-15, vgl. Jes.10:5-7).

 

Die demone se getal (v.16)

Die getal van die troepe wat deur die vier gevalle engele opgekommandeer was, was 2 x 10 000 x 10 000 (v.16). Dit was te veel om te tel, en daarom het Johannes gesê dat hy die getal gehoor het (v.16).  Dit is heeltemal moontlik dat daar letterlik ‘n weermag van 200 miljoen demone was.  Ek dink egter dat Johannes ‘n simboliese getal in gedagte gehad het.  Kom ek wys vir jou hoekom ek so sê.

 

As ons ‘n groot getal wil uitdruk, gebruik ons ‘n miljoen: ‘Daar was miljoene mense in die mall.’  In die Bybelse tyd het hulle tienduisend gebruik om ‘n onbepaalde getal uit te druk.  Saul het sy duisende doodgemaak het, maar Dawid sy tienduisende (1 Sm.18:7).  God se strydwaens is tienduisende, duisende maal duisende (Ps.68:18).  Die engele voor God se troon is duisende maal duisende, tienduisend maal tienduisend (Dt.33:2, Dn.7:10, Heb.12:22, Jud.14, Op.5:11).  As Johannes dan sê dat daar twee keer 10 000 x 10 000 was, sê hy eintlik dat ‘n ontelbare skare van demone die Romeine aangehits het om die Jode te oorweldig.

 

As jy ‘n gelowige is, hoef v.16 jou nie bang te maak nie. God sal sy engele stuur om jou te beskerm (Ps.91:11, Heb.1:14).  Daar is twee keer soveel engele as wat daar demone is (12:4, 7-9).  Dié wat vir ons is, is meer as dié wat teen ons is (2 Kon.6:16).  God op sy eie is oneindig keer groter en sterker as al die magte van die hel.  As jy aan sy kant is, is jy veilig, “omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Jh.4:4).

 

Die demone se wapens (v.17-19)

Ek en my vrou het op ‘n tyd dokumentêre oor vliegtuie, die Navy Seals, skerpskutters, ens. gekyk. In een dokumentêr het ons gesien hoe vegvliegtuie ontwikkel het.  In die begin het hulle gewone masjiengewere gebruik.  Later het die gewere groter en beter geword.  Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het hulle missiele gebruik.  En vandag kan hulle ‘n onbemande vegvliegtuig in die lug instuur.  Maar t.s.v. die tegnologiese ontwikkeling, kan ‘n mens nog weerstand bied, omdat daar nie net een land is wat tegnologies gevorder het nie.  Wanneer dit egter by demone kom, kan nie eers die mees gevorderde wapens jou help  nie.

 

In 2 Kon.6:17 lees ons van strydwaens en perde van vuur wat die berge omring het om vir Elisa te beskerm. Uit Heb.1:7 weet ons dat dit engele was:  “[God maak] sy dienaars vuurvlamme.”  In Op.9 het Satan ook ‘n weermag van perde.  Johannes se beskrywing van die perde wys baie duidelik dat daar demoniese magte was wat die Romeine aangehits het.

 

Johannes sê dat hy ‘n visioen gesien het, asook dat die perde soos dit en dat was (v.17, 19).  Ons moet dan verstaan dat hy weereens simboliese taal gebruik.  Die demoniese perde se koppe soos leeus s’n het gewys dat hulle gevaarlik is (v.17, 8b, vgl. 1 Kron.12:8, Jes.5:29).  Die ruiters se borsharnasse was rooi-oranje soos vuur, blou soos ‘n saffiersteen, en swawelgeel (v.17).  Dit stem ooreen met die vuur, grysblou rook, en swawel wat uit hulle bekke uitgekom het (v.17, vgl. Jes.30:33).  Elders in Openbaring sien ons dat Johannes vuur, rook en swawel met die hel assosieer (14:10-11, 19:20, 21:8).  Duidelik het ons in v.17 te doen met demone.

 

Die plae van vuur, rook en swawel het ‘n derde van die land se mense doodgemaak (v.18). Toe God vir Sodom geoordeel het was daar vuur, rook en swawel (Gn.19:24, 28).  Die punt is dan dat Jerusalem so goddeloos geword het soos Sodom (v.20-21, 11:8), en daarom het sy Sodom se straf gekry (Dt.29:23-25).  Dit was maar net ‘n voorsmake van die vuur, rook en swawel van die hel (14:10-11).

 

Die demoniese sprinkane se sterte was soos skerpioene s’n, en die demoniese perde s’n soos giftige slange (v.19, 10, 12:9, 14-15, 20:2, Lk.10:17-19).  In v.5-6, 10 het die demoniese sprinkane se sterte die mense seergemaak, maar in v.17-19 het die demoniese perde se bekke en sterte hulle doodgemaak (v.17-19).

 

Wat beteken dit? Ons weet reeds dat Sataniese magte die Romeine teen Jerusalem aangehits het.  Die voorste troepe (die kop) het die hekke en die stadsmure afgebreek om die Jode dood te maak.  Die agterste troepe (die stert) het hulle doodgemaak met enjins wat spiese, pyle en reuse klippe geskiet het.[2]  Die weermag se kop en die stert was dodelik – daar was geen wegkom kans vir die Jode nie.

 

As jy ‘n ongelowige is kan jy nie teen die duiwel en sy demoniese magte veg nie (v.17-19). Jou wapens kan hulle nie seermaak nie; hulle is geeste (Ef.6:12).  In Mk.9:22 lees ons van ‘n demoon wat ‘n seuntjie in water en vuur gegooi het om hom dood te maak.  In Hd.19:13-16 het ‘n man met een bose gees sewe volwasse mans geslaan dat hulle gebloei het.  Die besete man in Mk.5 het ‘n paar duisend demone in hom gehad.  Hy het kettings gebreek soos wat ek en jy papier skeur – niemand was sterk genoeg om hom te boei nie (Mk.5:3-4).

 

Hoe kon die Jode dan teen ‘n weermag van demone gestaan het (v.16)?  Hulle was veral hulpeloos omdat God vir vir die demone toestemming gegee het om die Romeine teen Jerusalem aan te hits.  Jy kan nie eers teen demone wen nie.  Hoe wil jy dan teen die Here wen wat die mag het om vir hulle te sê wat hulle mág en nié mag doen nie?

 

As jy die Here ken hoef jy nie bang te wees nie, omdat God sy eie wapenrusting en krag vir jou gee (Ef.6:10-13, Jes.11:5, 59:17). Jy meer as genoeg toegerus om teen die duiwel en sy bose magte te staan.  Hoe veg ‘n mens teen hom?  Moenie geestelike oorlogvoering verwar met dinge wat nie in die Bybel staan nie:  gebiedsgeeste bind, Sataniese vestings neerwerp voor jy die evangelie in ‘n sekere woonbuurt kan preek, mense se huise met olie salf, vloeke breek, ‘n gees van wellus of skinder in iemand bind, demone se rangorde wil ken om meer effektief te veg, ens.

 

Veg eerder deur nuuskurigheid oor sonde en die okkulte te vermy, asook deur ‘n heilige lewe, ‘n liefde vir die waarheid, evangelisasie, geloof in Jesus, ware verlossing, die Bybel, volhardende gebed, heilige en nugter denke, nederige onderdanigheid aan God, waaksaamheid, weerstand teen versoeking (Mt.4:1-11, 6:13, Mk.9:29, Hd.26:18, Rm.16:20, 2 Kor.10:4-5, Ef.6:10-18, Jk.4:6-7, 1 Pt.5:8-9, Op.12:11).

 

Wees ook bekend met die duiwel se taktiek (2 Kor.2:10-11): hy lieg, saai twyfel, sê dat God nie goed is nie, versoek jou deur dié wat naby jou is, vermom hom as ‘n engel van die lig, werk deur vals lering, haal die Bybel buite konteks aan (Gn.3:1-5, Mt.4:1-11, 2 Kor.11:14, 1 Tm.4:1).  Wees dan op jou hoede.

 

Die demone se versoeking (v.20-21)

Josefus, die Joodse geskiedkundige wat tydens die verwoesting van Jerusalem geleef het, gee vir ons ‘n beskrywing van die hongersnood, die massa moorde, die kannibalisme, die kruisiging van 500 Jode per dag, en baie ander grusame gebeure. Hy vertel dan hoe die Jode t.s.v. al hierdie dinge, die vals profete se profesieë van oorwinning geglo het.[3]  Van sy mede-volksgenote in Jerusalem het hy gesê:  ‘…as though thunderstruck, blind, senseless, [they] paid no heed to the clear warnings of God.’[4]

 

Dit is presies wat Johannes in v.20-21 voorspel het. Alhoewel ‘n derde van die mense doodgemaak is, het die res dit nie ter harte geneem en hulle bekeer nie (v.20).  Hulle het aangehou om die eerste (v.20), sowel as die tweede helfte (v.21) van die Tien Gebooie te oortree.  Hulle het nie opgehou om die mensgemaakte afgode van goud, silwer, koper, klip en hout te aanbid nie (v.20, Dt.31:29, Jer.1:16).  Daardeur het hulle ook die demone aanbid wat agter hierdie gode gestaan het (v.20, 2:9, 3:9, Dt.32:17, Ps.106:37-38, 1 Kor.10:19-20).  Die demone het hulle verblind, sodat hulle nie agtergekom het dat die afgode hulle nie kan sien, hoor of help nie (v.20, Ps.115:4-8, Jer.2:5, Dn.5:23, Hos.9:10).

 

Waar het die Jode afgode aanbid? Hulle het dit dwarsdeur hulle geskiedenis gedoen.  Israel se verwerping van Jesus as die Messias was ook niks anders as afgodery nie (1 Jh.5:20-21).  Die demone het hulle aangehits om daarmee aan te hou (v.20), asook om baie ander sondes te doen (v.21).  Hulle het hulle nie bekeer van die moorde op die profete, die Messias en God se kinders nie (v.21, Lk.11:47-51, Hd.7:52).  Hulle het ook nie opgehou met die heksery en towery waartoe die demone hulle versoek het nie (v.21, Dt.18:9-14).  En dan het hulle ook in allerhande seksuele misdrywe en diefstal volhard (v.21).  Die volk was ryp vir God se ewige oordeel in die hel (21:8, 22:15).

 

Moet dan nie soos hulle wees nie. Ons moenie nog ná die droogte, korrupsie, plaasmoorde, misdaad, studente-chaos, gay kwessie in die NG-Kerk, rasse haat, aborsie, ens. weier om te verander nie.  Moenie vir een oomblik dink dat die mense wat slagoffers van hierdie Goddelike oordele en demoniese aanvalle is, slegter is as die res nie.  As ons ons nie bekeer nie, sal die hele land onder dieselfde verskriklike oordele sterf (Lk.13:1-5).

 

Ons moet dan daarop fokus om ons te bekeer. Ons moet wegdraai van ons afgode af (v.20):  ons materialisme, die malle gejaag na luuksheid, geld en besittings.  Ons moet die Here saam met ander gelowiges aanbid en nie ons eie gemak en begeertes bo sy heilige dag, sy Woord, en sy huis stel nie.  Ons moet ons bekeer van die duisende moorde in ons land – ook die moorde op ongebore babas.  Ons moet ons ook van moordlustige en haatdraende gedagtes bekeer.

 

Ons moet geen aangetrokkenheid tot towery en heksery in ons harte koester nie; nie in die Huisgenoot, die koerant, TV-programme, films, of op die radio nie. Ons moet eens en vir altyd ontslae raak van die idee dat seks nie beperk is tot die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou nie, maar dat elke mens vry is om te kies hoe en wanneer hy dit wil doen.  Ons moet ons van ons diefstal bekeer, en nie verskonings daarvoor maak omdat die regering self korrup is, of omdat hulle ons in elk geval te swaar belas nie.

 

Johannes kon baie ander sondes genoem het, maar hy het genoeg genoem om sy punt te maak. As ons ons bekeer en na Jesus toe draai sal die Here ons genadig wees en ons vergewe.  Jesus het immers gekom om die straf vir sulke sondes aan die kruis te dra, en om dié wat so gelewe het en hulle bekeer, van binne af te reinig (1 Kor.6:9-11).  Het Hy nie juis in die wêreld ingekom om die werke van die duiwel te verbreek nie (1 Jh.3:8)?

 

In Griekse mitologie is daar ‘n duiwelse hond genaamd Cerberus. Hy behoort aan Hades, die god van die onderwêreld, en is veronderstel om te keer dat die dooies ontsnap.  Hy het drie koppe en sy stert is ‘n slang.  Die beelde wat Johannes in Op.9 gebruik klink net so skrikwekkend.  Die groot verskil is natuurlik dat die duiwel en sy demone nie maar net ‘n mite is soos Cerberus nie.  Indien jy dink dat die duiwel ‘n mite is, sal jy sleg tweede kom.

 

[1] Flavius Josephus, The Wars of the Jews, Book VII, 1:3

[2] Wars, Book III, 7:9

[3] David Chilton, Days of Vengeance, p.108

[4] Wars, Book VI, 5:3

Wanneer God die duiwel loslaat

jewish-war

Wat bedoel ons wanneer ons sê dat die duiwel los is? Ons bedoel dat daar groot moeilikheid is, of dat dinge besig is om hand uit te ruk.  Vir stoute kinders wat in die moeilikheid gaan kom sê ons:  ‘Nou is die duiwel los!’  En as ‘n samelewing drasties versleg dan sê ons ook dat die duiwel los is.  Maar ons vergeet dat God eintlik nogsteeds in beheer is wanneer ‘die duiwel los is’.  Om die waarheid te sê is dit Hy wat die duiwel in Op.9:1-12 losgelaat het.

 

Wat het die demone gedoen? (v.1-6)

Meer as een persoon het al vir my gesê dat die universiteite wat so afgebrand word nie maar net die werk van barbaarse studente is nie. Ek stem heelhartig saam dat daar demoniese magte aan die werk is.  Ef.6:12 leer vir ons dat hierdie nie ‘n oorlog teen mense is nie, maar teen die magte van duisternis, teen die bose geeste in die lug.  ‘n Verduideliking van Op.9 sal vir jou wys wat ek bedoel.

 

God het vir die sewe engele trompette gegee om sy oordele aan te kondig (8:2). Die vyfde engel het op sy trompet geblaas (v.1).  Johannes het ‘n ster gesien wat uit die hemel geval het na die aarde toe (v.1, 8:10).  Hy het die sleutel na die put van die bodemlose afgrond ontvang (v.1).  Dié sleutel behoort aan Jesus (1:18), en daarom kan Hý die tydelike gebruik daarvan oorgee aan wie Hy wil, hetsy ‘n gevalle of ‘n heilige engel (v.1, 20:1-3).

 

Uit die konteks van die gedeelte asook die res van die Skrif, sien ons dat die ster in v.1 eintlik ‘n gevalle engel is (v.1, 12:4, Job 38:7, Jes.14:12-13). Volgens v.11 is hierdie engel die koning van die bodemlose afgrond.  Ja, die gevalle ster in v.1 is die duiwel of Satan.  Hy het die bodemlose put oopgesluit (v.2).  Baie van sy demone was daar toegesluit (2 Pt.2:4, Jud.6), alhoewel sommige van hulle nog vry was (Lk.8:31).

 

Satan het toestemming gehad om die gevangenes vir ‘n kort rukkie op parool vry te laat. Toe hy die bodemlose put oopgesluit het, het daar ‘n dik swart rookwolk soos van ‘n vuuroond in die lug opgestyg (v.2).  Dit het die lug donker gemaak en die son uitgeblok (v.2).  Dit was nie net ‘n voorsmakie van die verwoesting van Jerusalem nie, maar ook van die hel (14:11, vgl. Gn.19:28, 2 Pt.2:6, Jud.7).  God het die lig van sy guns onttrek en die duisternis van sy oordeel aangebring (Eks.10:22).

 

Uit die rook van die bodemlose afgrond het die demone soos ‘n plaag sprinkane op die aarde of land [Gk. ] toegesak (v.3).  In Dt.28:38 en Joël 1-2 het God sy ongehoorsame volk met sprinkane gedreig.  In Op.9 het Hy toegelaat dat Satan en die demoniese sprinkane hulle pynig soos met ‘n skerpioen se angel (v.3, 5, 10, vgl. 1 Kon.12:14).

 

In Lk.10:17-19 sê Jesus dat Satan uit die hemel geval het en praat Hy van die demone as giftige skerpioene. Nou, in Op.9 gebruik Johannes dieselfde beeld (v.1, 3).  Esg.2:6 praat van hardkoppige Israel as skerpioene.  Die slotsom in Op.9 is dan dat die demone vir Israel in hulle rebellie en sonde aangehits het.  Ons kan as’t ware sê dat die hel teen hulle losgebreek het, dat God die duiwel en sy demone teen hulle losgelaat het en vir Israel aan die verwoesting van hulle eie sonde oorgegee het.  Volgens 18:2 was die stad “‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste”.

 

Jesus het hulle hierteen gewaarsku. Toe Hy op die aarde was het Hy baie duiwels uitgedryf.  Indien die volk hulle daarna nogsteeds nie bekeer het nie, sou die demone in groot getalle teruggekeer het.  Dit sou in hulle leeftyd nog gebeur het:

 

“En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy:  Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het.  En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.  Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.  Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.” (Mt.12:43-45).

 

En is dit nie presies wat in Op.9 gebeur het nie? Volgens die geskiedenisboeke het die inwoners van Jerusalem duiwel-besete en mal geraak.  Hulle kon nie meer logies redeneer nie.  Besete bendes het mekaar aangeval.  Mense was so mislei dat hulle agter vals lering aangeloop het wat selfs ‘n kind van ‘n myl af sou kon uitken.  Hulle het soos honger leeus agter kos aangehardloop.  Daar was massa moorde, teregstellings en selfmoorde.  Pa’s het hulle eie gesinne geslag en ma’s het hulle kinders geëet.[1]

 

Die selote (‘n Joodse politieke party wat ver regs was) het die rykes se huise beroof, mense vermoor, vroue verkrag, bloed gedrink, lang hare (v.8), vroue-klere, grimmering en parfuum gedra, homoseksuele dade beoefen. Hulle het enigiemand wat verby hulle gestap het met die swaard deurboor.[2]  Die feit staan uit soos ‘n paal bo water:  die duiwel en die magte van die hel was los.

 

Gewoonlik eet sprinkane plante, maar die demoniese sprinkane in Op.9 het niks aan die plante gedoen nie. Hulle het die mense getref soos wat ‘n plaag sprinkane ‘n land kaal vreet (v.4).  “You will be wiped out like crops eaten up by locusts.” (Nah.3:15, Good News Bible).  Die demoniese sprinkane kon nie die gelowige Jode beskadig het nie, maar net dié wat nie aan die Here behoort het nie (v.4, 7:1-3, net soos wat Egipte deur die plae getref is en Israel nie).  Hulle het toestemming gekry om die mense vir vyf maande lank te pynig, maar nie dood te maak nie (v.5).

 

Johannes se lesers sou hierdie beeld verstaan het, omdat die sprinkane in Israel vir vyf maande, van Mei tot September, geleef het.[3]  Ons weet ook dat die Jode in Jerusalem vir vyf maande, van Mei tot Sept. 70 n.C., teen die Romeine uitgehou het.  Hulle het gewens om dood te gaan (v.6).  Josefus praat van hulle innerlike pyniging en teistering, en sê hoe hulle gewens het die Romeine wil die stad inneem en hulle doodmaak, eerder as wat hulle in die demoniese stad moes bly.[4]  Maar selfs toe hulle probeer het om dood te gaan, het dit van hulle af weggevlug (v.6).

 

Hoe het die demone gelyk? (v.7-12)

Populêre skrywers oor die eindtyd sê dat die sprinkane in Op.9 eintlik Russiese helikopters is. Een van hulle sê dat ‘n helikopter se propeller soos die geraas van perde klink (v.9), en dat die giftige skerpioen-tipe angel in v.10 waarskynlik ‘n soort traangas is wat by die helikopter se stert uitgespuit word.[5]

 

Ek ontken nie dat Op.9 moeilik is om te interpreteer nie. Maar om die teks só te interpreteer is vergesogd.  Ons kan nie Johannes se woorde deur ons 21ste eeu bril wil bestudeer nie.  Hoe sou die eerste lesers dit verstaan het?  Dit is die vraag wat ons vir onsself moet afvra.

 

Hoe het die demoniese sprinkane gelyk? Die vergelykings in v.7-10 wys vir ons dat hierdie nie gewone sprinkane is nie.  Hulle het gelyk soos perde wat opgesaal was vir oorlog (v.7, Job 39:22-28, Jer.51:27, Joël 2:4).  Daar was iets soos goue krone op hulle koppe, so asof hulle koninklike mag gehad het (v.7).  Hulle gesigte soos mense s’n het gewys dat hulle intelligent is (v.7).  Hulle hare soos vroue s’n het gewys dat hulle wild is (v.8, Dt.32:42, Nuwe Vertaling).

 

Hulle tande soos leeus s’n het gewys dat hulle gevaarlik is (v.8, Joël 1:4, 6, 1 Pt.5:8). Hulle bors pantsers soos yster het gewys dat menslike wapens hulle nie kon keer nie (v.9, Joël 2:8, 2 Kor.10:4, Ef.6:10-18).  Hulle vlerke soos die geluid van perde wat in die oorlog in hardloop het gewys dat hulle ‘n sterk en magtige weermag is (v.9, Joël 2:4-5, 10).  Hulle sterte soos skerpioene s’n het gewys dat hulle groot skade kan aanrig (v.10).

 

Gewone sprinkane het nie ‘n koning nie (Sp.30:27), maar die demoniese sprinkane het ‘n gevalle engel as hulle koning gehad. In Hebreeus was sy naam Abaddon en in Grieks Apollion (v.11).  Sy naam beteken verwoesting of die verwoester.  Satan is die leier van dié wat gekom het om te steel, te slag en te verwoes (Jh.10:10).  En tog was die verwoesting van v.1-10 maar net die begin – erger dinge was oppad (v.12).

 

Dit is dan genoeg vir vandag. Vir nou is dit belangrik om te weet dat ons nie ons lering oor Satan en demone by Sataniste, Rebecca Brown, Hollywood of ander buite-Bybelse bronne moet kry nie.  Wat ek en jy oor bose geeste moet weet is in die Bybel opgeteken.  Moenie nuuskierig wees en in dinge gaan krap wat die Here nie aan jou geopenbaar het nie.  As Hy wou gehad het jy moet dit weet, sou Hy dit in die Bybel gesit het.

 

Mense glo verkeerde dinge oor die duiwel en demone, omdat hulle meer aandag aan hóm gee as aan die Bybel. Hy is al te gelukkig om te sien hoe Christene die Bybel eenkant toe skuif om boeke oor die okkulte te lees.  Hierdie mense glo vas dat hulle die diep dinge van Satan verstaan (2:24), maar eintlik weet hulle niks.

 

Hulle teologie van die duiwel is verdraaid: hulle dink dat húlle die mag het om die duiwel te beveel, maar glo ook dat Satan soms vir Jesus in skaak sit.  In hulle wêreldbeskouing is die duiwel soewerein.  As hulle siek word, geld verloor, ‘n slegte oes het of sukkel om werk te kry, dan sit die duiwel daaragter.

 

Hulle ken Rm.8:28, maar verstaan dit nie in die praktyk nie. Wanneer dit met hulle sleg gaan, dan wil hulle die duiwel bind en bestraf.  Hulle is soos die vals leraars in 2 Pt.2:10b-11:  “Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie, terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie.”

 

In Jud.8-10 lees ons: “Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens.  Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê:  Die Here bestraf jou!  Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde.”

 

Om te keer dat ons in hierdie strik trap, moet ons ‘n Bybelse en gebalanseerde teologie van die duiwel en demone hê. Die Skrif leer vir ons dat God die duiwel gemaak het; hy is nie ‘n onafhanklike wese wat uit homself uit onstaan het nie  (Kol.1:16).  Voordat Satan tot ‘n val gekom het was hy ‘n volmaakte, sondelose, beeldskone en wyse gerub (Esg.28:12b-15a).[6]  Hy het egter hoogmoedig geword.  Hy wou soos God gewees het, en daarom is hy uit die hemel geskop (Jes.14:12-14, Esg.28:15b-17, 1 Tm.3:6).

 

Na sy val het hy nog in die hemel ingekom om God se kinders aan te kla. Hy het o.a. vir Job en die hoëpriester Josua aangekla (Job 1-2, Sg.3).  Maar toe Jesus aarde toe gekom het, het dinge verander.  Jesus het die duiwels uitgedryf en ook vir sy helpers die mag gegee om dit te doen.  Satan het soos weerlig uit die hemel uit geval (Lk.10:18).

 

Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy die duiwel se lot geseël. Hy het die prys vir ons sondes betaal, sodat die duiwel ons nie meer voor die Here kan aankla nie (Rm.8:33).  Nóg ‘n keer het die Here hom neergewerp (12:9-10).  Wanneer Jesus weer kom, sal Hy die duiwel vir ewig in die hel gooi (20:10).

 

Duidelik is dit God en nie die duiwel nie, wat soewerein is. My tema is nie toevallig ‘Wanneer God die duiwel loslaat’ nie.  Die duiwel en sy demone is bang vir God; hulle sidder (Jk.2:19).  Hulle kwyn voor sy toorn en almag soos wat die nag se donker voor die oggendson verdwyn (Lk.8:28, 31).  As Hy ‘n opdrag gee dan luister hulle dadelik (Mt.4:10-11, Mk.1:25-26, Lk.4:41).  As Hy vir hulle perke stel en sê:  ‘Jy kan dít doen, maar nie dát nie’ dan stry hulle nie met Hom nie – hulle doen wat Hy sê (Job 1:12, 2:6).

 

Volgens Op.9 is die bodemlose afgrond se sleutel aan die duiwel gegee (v.1).  Die demone het mag ontvang om die bewoners van die land te beskadig (v.3).  Daar is vir hulle gesê om nie die plante of verseëlde gelowiges te beskadig nie, maar net die ongelowiges (v.4).  Hulle is toegelaat om die mense vir vyf maande lank te pynig (v.5).  Hulle het nie toestemming gehad om die mense dood te maak nie (v.5).

 

God se soewereiniteit beteken egter nié dat Hy en die duiwel kop in een mus is nie. Hy het nou wel vir die duiwel toestemming gegee om hierdie dinge te doen, maar dit is Satan en nie God nie, wat die verwoester is (v.11).  Maar leer tog uit Op.9 om bang te wees vir God en nie vir die duiwel nie.  Vrees Hom wat mag het om die duiwel en al die magte van die hel teen jou te stuur (v.2-6).  Vrees Hom wat oneindig keer sterker is as die duiwel, sodat Hy hom deur die ‘swakheid’ van die kruis oorwin het (Kol.2:15).  God hoef nie eers op te staan om teen die duiwel en sy weermag te baklei nie; Hy kan net vuur uit die hemel uit stuur om hulle te verdelg (20:7-10).

 

Dit is erg genoeg dat die duiwel en sy demone jou haat en jou wil vernietig. Maar dink daaraan dat die God wat hulle gaan straf, jou saam met hulle in die hel sal gooi as jy jou nie bekeer nie (Mt.25:41).  Tog is dit ook so dat hierdie God jou Vader en jou Vriend wil wees.  Hy sal jou vergewe as jy in geloof na Hom toe kom om die vuilheid van sonde uit die huis van jou hart uit te vee. Hy wil eenvoudig hê dat jy met ‘n berouvolle hart na Jesus toe moet draai en moet glo dat sý bloed enige vuilheid uit die hoeke, in die kaste en onder die beddens van jou hart kan uitwas.

 

Het die Here demoniese teistering in jou lewe toegelaat, omdat jy met sonde besig is (v.4-6, 1 Kor.5:5)? Moet dan nie hardkoppig wees en met jou sonde aanhou nie; bekeer jou (v.20-21).  Dit is baie gevaarlik om jou teen die Here te verset en om ná al sy goedheid aan jou, jou rug op Hom te draai.  Wat as Hy besluit om jou ook aan die duiwel oor te gee, sodat daar ‘n sewevoudige bende van demone soos leeus op jou toesak (Mt.12:43-45)?

 

As jy ‘n gelowige is moet jy jou nie met die duiwel ophou nie. Maar jy hoef hom ook nie te vrees nie.  Hy sal jou aanval, maar hy kan dit nie sonder God se toestemming doen nie (Job 1-2).  Hy kan jou nie van God se liefde skei of jou uiteindelike skade aandoen nie (v.4, Rm.8:38-39, 1 Jh.5:18).  God sal sy aanvalle vir jou voordeel uitwerk, en daarom hoef jy nie bang te wees nie (Rm.8:28, 31).

 

Vir gelowiges is die duiwel soos ‘n kwaai en intimiderende hond aan ‘n ketting. Omdat God die streng baas is, kan die hond niks aan ons doen nie.  As die Here Hom egter loslaat is dit ‘n ander storie.  Hy sal selfs vir gelowiges storm en vir hulle blaf, maar hy kan nie byt nie, omdat God hom aan die halsband gryp.  Maar wanneer dit by God se vyande kom, gee Hy vir die hond toestemming om hulle te byt.  Ongelowiges het dus goeie rede om te vrees.  As hulle egter na die Here toe draai is hulle veilig, omdat Hy die duiwel se werke verbreek het (1 Jh.3:8), en ook omdat Hy eendag die hond gaan uitsit.

 

[1] David Chilton, Days of Vengeance, p.105

[2] Flavius Josephus, The Jewish War: Book IV, 9:10

[3] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Rev.9:5

[4] Wars: Book V, 1:5

[5] Hal Lindsey aangehaal in Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, p.229

[6] Sommige sal sê dat Jes.14 en Esg.18 nie van die duiwel praat nie, maar van die konings van Babilon en Tirus. Die waarheid is egter dat die duiwel agter hierdie konings gestaan het om hulle in hulle boosheid aan te hits, net soos wat hy in Dn.10 agter die konings van Griekeland en Persië gestaan het.

God se silhoeët in die siviele wet

Christ the Redeemer

Tydens my studiejare het ‘n mede-student en sy vrou in die mall gaan stap. ‘n Fransman het op ‘n stoeltjie tussen die winkels gesit. Hy was ‘n kunstenaar. Hy het ‘n swart karton gevat en binne ‘n paar minute die buitelyne (silhoeët) van die vrou se gesig uitgeknip. Hy het dit so goed gedoen, dat ‘n mens duidelik kon sien dis sy.

 

Op ‘n soortgelyke manier sien ons in die siviele wet die buitelyne van God se karakter. Die siviele wet wys vir ons Hy is rein, heilig, regverdig, ontpartydig, toornig, goed, genadig, barmhartig, liefde, getrou, vol ontferming, en meer. Ons sien dit onder andere in Eksodus 22:16-23:9.

 

Hoerery en heksery (22:16-20)

In 2007 het ek Taiwan toe gevlieg. ‘n Plakker in die toilet het gewaarsku dat jy met $50 000 (R10 000) beboet sal word as jy in die vliegtuig rook. Dis onnodig om te sê dat niemand dit gewaag het om op die vliegtuig te rook nie.

 

Hoeveel jong mense sal twee keer dink as hulle R30 000 of R50 000 moet betaal vir seks voor die huwelik? In ou Israel moes jy 50 egte silwer munte betaal vir seks voor die huwelik.

 

As ‘n wellustige man ‘n ongetroude vrou verlei het en met haar geslaap het (Deuteronomium 22:28), moes hy 50 shekels betaal, met haar trou, en nooit van haar skei nie (v.16, Deuteronomium 22:29). In dié kultuur kon sy nie vir haarself sorg nie. Die man het haar verneder en waarskynlik sou niemand nóú met haar wou trou nie. Deur hierdie wet het God verseker dat sy versorg is.

 

Maar wat as die vrou verloof was? In antieke tye was verlowing baie strenger as nou, en moes dit met ‘n skeibrief beeïndig word (Matteus 1:19). Iemand wat dus met ‘n verloofde geslaap het, was skuldig aan egbreuk en moes daarom die doodstraf kry (Deuteronomium 22:23-24). As die vrou verkrag is, moes die verkragter met die dood gestraf word (Deuteronomium 22:25-27).

 

Die meisie se pa kon kies of hy sy dogter wou weggee of nie (v.17, om ouers te vra is nie bloot ‘n formaliteit nie; vgl. 1 Korintiërs 7:36-38). As die pa nie sy dogter wou weggee nie, moes die man nogsteeds die buidsprys vir maagde betaal. Was die prys vir maagde 50 shekels soos in Deuteronomium 22:29, of 100 shekels soos in Deuteronomium 22:19? Wat dit ookal was, hy het die pa se bruidsprys gesteel en moes dit terugbetaal.

 

Pasop vir seksuele sonde. Moenie daaraan gewoond raak deur films, TV, die samelewing, tydskrifte, die media, of selfs sommige kerke wat maak asof dit nie sonde is om saam te bly nie. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Romeine 12:2).

 

Moenie vir mense se verskonings val vir hoekom hulle saam bly nie: ‘Dis goedkoper… Ons wil toets of ons bymekaar pas… Ek kan nie op my eie ‘n huis koop nie… Ons is getroud in God se oë… Ons bly net saam, maar slaap nie saam nie… Tye het verander; die kerk en die Bybel moet aanpas…’

 

Die Skrif sê dis sonde om saam te bly; om seks voor die huwelik te hê (22:16). Hebreërs 13:4 sê ons moet die huwelik heilig ag en die huweliksbed onbesmet hou, want God sal egbrekers (seks buite die huwelik) en hoereerders (seks voor die huwelik) oordeel. Paulus sê ongetroudes wat met seksuele begeerte brand moet trou, nie in die bed spring nie (1 Korintiërs 7:9). In Johannes 4:18 het Jesus vir die Samaritaanse vrou gesê: “jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.” Jesus sê dat jy nié getroud is net omdat jy met iemand geslaap het nie.

 

As jy saambly goedkeur, sal ander seksuele sondes spoedig volg. In Romeine 1:24 verval die samelewing in seksuele immoraliteit, en baie kort daarna in homoseksualiteit (Romeine 1:26-27). Die VSA het onlangs gay huwelike goedgekeur. Nou vra pedofiele hoekom hulle dade en begeertes nie óók wettig kan wees nie. Wat is volgende? Voor jy weet sal mense vir die regering vra om bestialiteit (gemeenskap met diere) wettig te maak.

 

Jare gelede het ‘n vrou in Louis Trichardt te hore gekom van ‘n Sataniste leier van Amerika wat Suid-Afrika toe kom. Sy het die polisie laat weet. Toe die man op die lughawe land het die polisie hom gearresteer.

 

Selfs vandag word Satanisme nie erken nie. In Amerika wil Sataniste erken word, en druk hulle daarvoor dat Satanisme as ‘n erkende godsdiens in skole geleer word.

 

God haat okkultisme. Dit verwoes die samelewing, en daarom het hekse in Israel (soos in ou Engeland) die doodstraf gekry (v.18). God het vir Saul doodgemaak omdat hy met ‘n heks deurmekaar was: “En Saul het gesterwe weens ontrou wat hy teen die HERE begaan het, weens die woord van die HERE wat hy nie gehou het nie; en ook omdat hy die gees van ‘n afgestorwene om inligting gevra het” (1 Kronieke 10:13).

 

Die towery in ons teks sluit verskeie vorme van okkultiese boosheid in. In Deuteronomium 18:10-11 sê die Here: “Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.”

 

Moenie met die okkulte speel nie. Pasop vir okkultiese films, kontak met die dooies, okkultiese speletjies, okkultiese tekens op jou kinders se klere, kamer muur en Sony Play Station, toordokters, die New Age, Vrymesselaars, spiritisme, sterretekens in tydskrifte, toekomsvoorspelling, Satanisme, hekse, Halloween, Wicca, ens. Bly ver weg van hierdie dinge af, en moenie demone uitsoek of ‘n obsessie daarmee hê soos wat baie in die charismatiese beweging doen nie.

 

Moenie na hekse toe gaan om God se wil te ken nie; gaan na die Skrif toe: “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.” (Jesaja 8:19-20).

 

As jy behep is met die toekoms, vertrou jy nie die Here nie. God sê ons moenie oor die toekoms bekommer nie (Matteus 6:34). Hy ken die toekoms en het al ons dae beplan en bepaal – vertrou Hom (Jesaja 46:9-10, Psalm 139:16). Eintlik is dit beter dat jy nié weet wat in die toekoms gaan gebeur nie. Saul wou graag weet, en toe vind hy uit dat die hy die volgende dag sou sterf (1 Samuel 28:19).

 

‘n Predikant het my gebel oor ‘n man in sy kerk wat ‘n sterk seksuele drang het vir perde. Dié man moes eintlik summier van die kerk afgesny word (vgl. die beginsel in 1 Korintiërs 5:1-2, 13). In die Ou Testament sou hy die doodstraf gekry het.

 

Om met ‘n dier gemeenskap te hê bring die mens af tot op die vlak van ‘n dier. Dit ontheilig die mens en die huwelik, en daarom moet beide die mens en die dier gestenig word (v.19, vgl. Levitikus 18:23, 20:15-16, Deuteronomium 27:21, Hebreërs 13:4).

 

God is nie soos die mens nie, maar is rein en getrou aan sy bruid (Efesiërs 5:25-32). Moenie geestelik hoerereer met afgode of die wêreld, en so ontrou wees aan Hom nie (Jeremia 3:9, Jakobus 4:4). Iemand wat afgode aanbid het, is met die banvloek getref (v.20, vgl. Deuteronomium 17:2-5). Pinehas het ‘n spies deur ‘n Israelitiese man en Midianitiese vrou gesteek oor hulle afgodery en immorele dade (Numeri 25:2, 7-8). Elia het die Baälprofete in Israel geslag (1 Konings 18:40). Jehu het die Baälprofete in hulle eie tempel verbrand (2 Konings 10:25). Ons moet soos Jesus wees wat vir Satan gesê het: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (Matteus 4:10). God is jaloers en deel sy eer met niemand nie.

 

Aanbid God met totale toewyding. Moenie ‘n halwe hart hê wat verdeeld is tussen Hom, geld, besittings, seks, familie, mense se applous (hoeveel ‘likes’ jy het op Facebook) plesier, werk, sport, tegnologie nie (v.20, vgl. Jakobus 1:8, 4:4, 8, Lukas 14:26, 33, Matteus 6:24). As jy God alleen moet dien, moet jy ook nie saam met Moslems, Hindus, Jode, en Katolieke bid nie. Ons dien nie dieselfde God nie (Johannes 14:6).

 

Hoekom moet jy so optree met betrekking tot seksuele sonde, okkulte, en afgode? Mense wat hierdie dinge doen gaan hel toe. Die Skrif sê: “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.” (Openbaring 21:8).

 

Verdrukking en vergelding (22:21-27)

Moenie vreemdelinge, weduwees, weeskinders, en armes verdruk nie (v.21-27, Deuteronomium 27:19). Het die vreemdelinge dalk Israel toe gekom omdat daar ‘n hongersnood in hulle land was, of omdat hulle die God van Israel wou dien? Daarom moes die volk hulle nie verdruk nie. Die Israeliete moes onthou dat hulle self slawe was in Egipte (v.21). Hulle moes onthou hoe hulle aanvanklik Egipte toe getrek het, omdat daar ‘n hongersnood was in Kanaän.

 

Die Israeliete moes nie die weduwees en weeskinders (kinders wat nie ‘n pa het nie, en nie noodwendig kinders wat beide ouers verloor het nie) verdruk nie. Die volk moes hulle nie mishandel, uitbuit, ignoreer, hulle erfdeel steel, of hulle indoen in die mark nie (v.22, Spreuke 23:10-11). Weduwees en weeskinders in Moses se tyd was baie meer ‘down en out’ as in ons dag. Hulle het nie ‘n pensioen gehad nie, en kon dus nie vir hulleself en hulle kinders sorg nie.

 

God gee om vir hulle en sou hoor as hulle onder verdrukking uitroep. Hy verskaf reg aan weduwees en wese (Deuteronomium 10:18). “‘n Vader van die wese en ‘n regter van die weduwees is God in sy heilige woning.” (Psalm 68:6). God rig weduwees en weeskinders weer op (Psalm 146:9). As jy hulle onderdruk, sal sy toorn brand. Deur jou dood te maak sal die Here sorg dat geregtigheid geskied, dat jóú vrou ‘n weduwee word en jou kinders vaderloos (v.23-24).

 

Wees lief vir vreemdelinge; moenie xenofobies wees nie. Onthou dat jy self ‘n vreemdeling is op die aarde (1 Petrus 2:11, Hebreërs 11:13). Dis nie dat ons onwettige immigrasie goedkeur nie. Tog moet jy vra hoekom hulle uit hulle tuisland weg is? Is hulle vervolg of verdruk? Is daar nie kos in hulle land nie? Is hulle werkloos of arm? Wees gaaf met Chinese, mense uit Sentraal- en Wes Afrika, Zimbabweërs, Bangladeshi’s en ander uitlanders in Suid-Afrika. Moet hulle nie dreig sodat jy omkoopgeld kan kry nie. Praat stadige Engels, wees vriendelik, mededeelsaam, en hulpvaardig. Onthou dat Suid-Afrika aan God behoort en nie aan ons nie. Wees daarom barmhartig.

 

George Müller het in sy leeftyd vir 10 000 weeskinders gesorg. Charles Spurgeon en George Whitefield het ook weeshuise gestig. Twee van my kollegas is betrokke by ‘n kinderhuis in Pretoria. ‘n Ander een lei Bybelstudies by ‘n kinderhuis in Kempton Park. Volgens v.22 is dit wat God wil hê.

 

Doen goed aan weduwees, weeskinders, en armes. Sorg eers vir mense in jou gesin en familie wat so is (1 Timoteus 5:8). Daarna help jy mede-gelowiges wat in dié posisie is, en dán eers ongelowiges (Galasiërs 6:10). Ken jy ‘n enkel ma wat klein kinders het en finansieel sukkel? Dalk ‘n weduwee? Kan jy met kos of geld help?

 

Moenie die lui persoon wat by die robot bedel aanmoedig in sy luiheid deur vir hom geld te gee nie. Help dalk met klein werkies as jy kan. As daar jong kinders is wat bedel sal dit gaaf wees om vir hulle kos te koop. Moet verkieslik nie vir hulle geld gee nie. Hulle sal dalk gom koop en is buitendien onervare met geld. Koop eerder self iets. God sal jou straf as jy die weduwees, wese, en armes ignoreer, wegjaag, of in jou hart verag (v.24, Spreuke 21:13, 17:5, 28:8).

 

Pasop egter dat jy nie in ‘n sosiale evangelie verval, deurdat jy kos en komberse gee sonder om die evangelie te deel nie. Die kerk se taak is nie primêr om kos en klere te gee nie. Tog kan ons as individue hierdie mense help.

 

Hoekom moet ons gaaf wees met weduwees, weeskinders, en armes? Dít is wat dit beteken om soos Jesus te wees, ware godsdiens te beoefen, en die Here te dien. Jesus self was immers goed vir weduwees (Lukas 7:13, Johannes 19:26-27). Hy het sy lewe vir ons afgelê, en ons behoort ook op te offer vir ons broers (1 Johannes 3:16-18). Hy het arm geword, sodat ons deur sy armoede hemelse rykdom kan ontvang (2 Korintiërs 9:8). Godsdiens sonder hulp aan dié mense is leeg en nutteloos (Jakobus 1:27). Hulp aan die arm gelowiges was ‘n opdrag aan die vroeë kerk (Galasiërs 2:10). As jy hierdie dinge aan mede-gelowiges doen, doen jy dit aan Jesus (Matteus 25:35-40).

 

Toe ek my kar gekoop het, het die bank 12.5% rente gevra. ‘n Vrou in ons kerk het my gehelp om dit af te bring na 10% toe. Vir mede-gelowiges moet ons nie 10% of 5% rente vra nie, maar niks. Ek ken ‘n goeie kerk wat vir arm lidmate geld leen sonder om ‘n sent rente te vra. Dis die beginsel in v.25-27.

 

Moenie ‘n arm Israeliet wat geld leen verdruk of vir hom rente vra nie (v.25, vgl. Deuteronomium 23:19-20). Hy leen juis geld omdat hy niks het nie. As jy nog rente oplaai sal jy hom finansieel sink. Wees eerder barmhartig soos God.

 

Die arm man besit niks nie. Hy het geen waarborg om te wys dat hy jou sal terugbetaal nie. Al wat hy besit is die klere op sy rug. Sy kleed kleed hou hom warm in die koue woestyn nagte. As jy dan sy kleed as waarborg neem, moet jy dit nie oornag hou nie (v.26-27, vgl. Deuteronomium 24:10-13, Amos 2:8). As jy sy kleed ná sononder hou is jy genadeloos, ongenaakbaar, en wreed. Jy gee meer om oor geld as oor mense. God sal Hom oor die arme ontferm as hy in die koue nag uitroep, en Hy sal jou straf (v.27). Dalk wonder jy: ‘Maar wat as hy met my geld verdwyn?’ Moenie laat dit jou kwel nie. Leen sonder om terug te verwag (Lukas 6:34-35). God sal met hom afreken. Sy gewete sal hom pla. God sal hom straf en jou vergoed.

 

Opstandigheid en offers (22:28-31)

‘n Predikant wat nou in die hemel is, is afgedank toe hy in ‘n erediens vir die regering gebid het. Afrikaners is lief daarvoor om die regering sleg te sê. God sê egter ons moenie (v.28).

 

God is heilig, en daarom moet ons nie sy Naam of die leiers wat Hy aangestel het (goed of sleg) vloek nie (v.28). Die Bybel sê: “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie” (Titus 3:1-2). Paulus het die (slegte en onregverdige) hoëpriester belaster. Toe hy dit besef het, het hy bely: “Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe: Van ‘n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie.” (Handelinge 23:5).

 

Dalk verdien die leiers onder wie jy staan nie respek nie. Die God wat hulle aangestel het verdien egter jou respek, en daarom moet jy hulle eerbiedig. Jy eer God deurdat jy hulle eer. Vrees God en eer die keiser (1 Petrus 2:17). As jy die leiers weerstaan, weerstaan jy dit wat God aangestel het (Romeine 13:2). Jy moet daarom respek hê vir die president, ministers, stadsraad, polisie, en ook jou geestelike leiers. Ons moet eerder vir ons leiers bid as om oor hulle te kla (1 Timoteus 2:1-2). Gehoorsaam die owerhede en betaal belasting: dit is wat God van jou vra (Romeine 13:1-7). Jy hoef egter nie te sondig as hulle dit van jou vereis nie. In dié geval moet jy soos die apostels sê: ‘Ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense.’ (sien Handelinge 4:19, 5:29).

 

Ken jy die storie van die sendeling wat in die erediens vir gemeente dankie gesê het vir die ou teesakkies, geskeurde t-hemde, en stukkende speelgoed? God wil nie hê jy moet jou oudste goed vir sy werk gee nie. Erken en dank God deur vir Hom die beste te gee (v.29-30).

 

God se volk moes uit die volheid van hulle oes en die uitvloei van hulle wynpars vir Hom offer (v.29). Hulle moes dit veral by die jaarlikse feeste doen (23:16, 19). God het vir hulle voorspoed gegee. Hulle moes soos Hy wees en uit ‘n vrywillige hart hulle beste vir Hom teruggee (Spreuke 3:9-10). Hulle bydraes, tiendes, en offers sou gaan vir die Leviete, armes, weduwees, weeskinders, en vreemdelinge (Deuteronomium 14:22-29).

 

Die Israeliete moes ook die eersgebore seun vir die Here gee (v.29). So sou hulle onthou hoe God die eersgeborenes van Egipte getref het, maar hulle oudstes gespaar het (hfst.12). Die eersgeborenes het die hele volk verteenwoordig. Dit het gewys dat God die hele volk as sy eie neem. Hierdie eersgeborenes moes hulle met ‘n lam loskoop (hfst.13). God self het Sý eersgeborene, Sý Lam geoffer om óns los te koop (Johannes 3:16, Hebreërs 1:6). Later het God die Leviete in plek van die eersgeborenes geneem (Levitikus 3:45).

 

‘n Israeliet se eersgebore skaap of bees moes hy op die agtste dag aan die Here offer (v.30, vgl. Genesis 17:12). Die volk self was ‘n heilige offer wat aan die Here afgesonder is (v.31, vgl. 19:6, Levitikus 19:44-45). Daarom mag hulle nie onrein vleis geëet het nie: vleis wat deur wilde diere verskeur en vol kieme is, waarvan die bloed nie gedreineer is nie. Dié vleis moes hulle vir die honde gooi (v.31).

 

Gee jou beste vir die Here. Jy moet egter nie die kos uit jou gesin se mond neem, onder die voorwendsel dat jy vir die Here gee nie (Matteus 15:5-6). Jy moet ook nie jou bydrae beperk tot geld en sê jy kan nie gee nie. Gee eers jouself (Romeine 12:1, 2 Korintiërs 8:5). Daarná kan jy jou tyd, geld, diens, geestelike gawes, vaardighede, kennis, kar, petrol, huis, bed, kos, tee, koffie en meer gebruik in sy diens.

 

Jy moenie jou slegste vir die Here gee, terwyl jy vir jouself die beste hou sodat jy lekker kan lewe nie. Herwerk jou begroting sodat jy vir die Here kan gee. Pasop dat jy nie jou begroting uitwerk, en vir die Here gee as jy iets oor het nie. Gee eerste vir die Here en betaal dán die res.

 

Hoekom moet jy op dié manier gee? Die Here verdien die beste. “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?” (Haggai 1:4). As jy volop en met blydskap vir die Here gee, sal Hy jou seën. So sê 2 Korintiërs 9:6-7, en dít is die beginsel in Maleagi 3:10.

 

 

Hofsake en haat (23:1-9)

Almal ken die kinderspeletjie, telefoontjie. Die eerste persoon fluister iets vir iemand anders. So fluister elkeen dit vir die volgende persoon. Op die einde lag almal, omdat die boodskap skeef uitgekom het. En so is dit met skinder: ‘Het jy gehoor?’ (v.1). Uiteindelik word daar stertjies aangelas, en kom die boodskap skeef uit.

Moenie vals gerugte versprei, op hoorsê praat asof jy die persoon se motiewe ken, of dink jy het al die feite nie (v.1). “Jy mag nie as ‘n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie. Ek is die HERE.” (Levitikus 19:16). Moenie bitter wees, sodat jy iemand anders se naam swartsmeer nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jy jouself liefhet, en die saak uitpraat. “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie. Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” (Levitikus 19:17-18). Moenie bose planne maak om valslik teen jou naaste te getuig nie (v.1, 20:16). Jou woorde mag slegte gevolge vir jou naaste inhou (soos vir Nabot, Stefanus, Paulus, en Jesus). Maar God sal ook sorg dat daar slegte gevolge is vir jou (Deuteronomium 19:16-21).

 

Moet dan nie vals stories versprei om die braaivleis vuur, op Facebook, in die koerant, by die Bybelstudie, in jou gebede by die biduur nie. Selfs as dit waar is, moet jy nie ander mense afbreek nie. Sit eerder en praat dit uit. Sal dit wat jy wil oorvertel opbouend wees vir ander? Sal dit God verheerlik? Hou dan jou tong in toom. Maak reg waar jy van ander geskinder het.

 

Die beste is dat jy glad nie skinder nie. Jou tong kan groot skade aanrig (Jakobus 3:6). As jy eers ‘n ander se reputasie beskadig het, is dit moeilik om dit reg te stel en die persoon se vrienskap terug te wen (Spreuke 18:19). Dis asof jy langs ‘n pad in die winderige Kaap loop en ‘n papier in klein stukkies skeur. Hoe sal jy ooit elke stukkie terugkry en dit weer aanmekaar vasplak? Dis asof jy spykers in ‘n paal kap. Jy kan die spykers uittrek, maar die merke bly.

 

By ‘n konferensie het Melvin Tinker vertel van die ASCH toets. Drie mense het op ‘n paneel gesit. Een van hulle was ‘n proefkonyn; die ander twee het geweet wat aangaan. Drie lyne is op ‘n skerm gewys. Hulle moes die langste een kies. In die begin het almal die regte antwoord gekies. Later het die twee ‘ingeligtes’ aspris die verkeerde antwoord gekies. Aanvanklik het die proefkonyn gestry, maar later was hy bang om dom te lyk, en het hy saam met hulle die verkeerde antwoord gekies.

 

By ‘n Baptiste vergadering het iemand aansoek gedoen vir leraarskap. Na my mening moes die persoon nie ‘n leraar gewees het nie. Toe almal egter hulle hande opsteek om hom in te stem, het ek ook. ‘n Kollega het dit gesien en vir my gesê: ‘People pleaser!’ Ek moes my vrees vir mense bely.

 

Moenie so wees nie (v.2). Wees eerder soos Athanasius. Hy het vir die Godheid van Christus geveg. Toe sy vriende vir hom sê: ‘Athanasius, the whole world is against you!’ het hy gesê, ‘Then is Athanasius against the whole world!’

 

Moenie ‘n marionet wees van ander se wense, mense se opinies vrees, ‘n ‘people pleaser’ wees wat die stroom volg, of die meerderheid volg in die hof omdat jy bang is mense kyk jou snaaks aan nie (v.2). Wees soos Jesus. Selfs sy vyande moes erken: “Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie” (Matteus 22:16).

 

Stuart Olyott is reg: ‘Go with the crowd and you go to hell.’ Daar is baie mense op die breë weg (Matteus 7:13). Moenie partydig wees teen ‘n arm man in die hof nie. Moet hom nie afskryf omdat hy nie kan betaal nie, maar moet hom ook nie bejammer net omdat hy arm is nie. Dié reël geld ook vir die kwota stelsel in ons land. God wil hê ons moet regverdig wees (v.3, Deuteronomium 1:17).

 

Die Skrif waarsku: “Die vrees vir die mens span ‘n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.” (Spreuke 29:25). Moenie glo die meerderheid se opinie is altyd reg nie. Wees besorgd vir die waarheid en geregtigheid; nie vir populariteit, mense se guns, of groepsdruk nie. Moenie bang wees om ‘nee’ te sê, omdat jy mense se fronse vrees nie.

 

Dalk stem jy nie saam met die verkeerde nie, maar jy bly stil omdat jy bang is om dom te lyk. Of jy vrees die meerderheid en deel nie die evangelie nie. As jy mense vrees sal jy Jesus verloën soos wat Petrus gedoen het.

 

‘n Winkel eienaar in Barnstaple, Engeland het op R.C. Chapman gespoeg terwyl hy besig was om te preek. ‘n Tyd later het ‘n ryk familielid vir Chapman kom kuier. Hy wou graag vir hom kruideniers koop. Chapman was dankbaar en het vir die familielid gevra om sy ‘vyand’ (die man wat op hom gespoeg het) se winkel te ondersteun. Die man het so gedoen. Hy was egter haastig en het die kruidenier gevra om die pakkies by Chapman se huis af te laai. Die kruidenier was geskok en gedink daar moet ‘n fout wees. Chapman se familielid het gesê: ‘Chapman het spesifiek gevra ek moet jóú winkel ondersteun.’ Die man het met trane na Chapman toe gekom, sy sonde bely, en in Jesus geglo.[1] Dís die les in v.4-5.

 

Soos God sý vyande liefhet, moet jy jóú vyande liefhê (v.4-5, Matteus 5:43-48, Romeine 5:8, 10). Liefde is nie maar net ‘n emosie nie, maar loop uit in praktiese dade. Dis so prakties soos om jou vyand se verdwaalde vee terug te bring, of sy oorlaaide pakdier op te help as dit onder ‘n swaar vrag lê en nie kan opstaan nie (v.4-5). Die beste manier om jou vyand te wen is om hom in ‘n vriend te verander.

 

Hoe kan jý jou vyand liefhê? Doen goed aan hom, seën hom, bid vir hom, gee vir hom kos, groet hom, gee vir hom geskenke, help hom in sy nood (Lukas 6:27-36, Matteus 5:43-48, Romeine 12:20-21). Hoekom moet jy so doen? As jy dít doen sal God jou beloon en sal jy ‘n seun van die Allerhoogste wees (Lukas 6:35). Ongelowiges kan ander liefhê. Maar net ‘n Christen kan opreg sy vyande liefhê. Dis ‘n baie sterk getuienis as jy jou vyande liefhet.

 

Die bekendste voorbeeld van omkopery in die afgelope jare is seker die Hansie Cronjé skandaal. Die Indiërs het hom betaal om aspris die wedstryd te verloor. Hy is uitgevind en lewenslank uit krieket geskors. God waarsku hierteen (v.8).

 

Moenie die reg wat die arme toekom verdraai nie. Die hof moenie aspris sy saak uitrek of uitstel om ekstra geld te kry nie (v.6, 3). Die regter moet regverdig en onpartydig wees soos God (vgl. Lukas 18:1-8, Romeine 2:11). Ons mag nie vals klagtes maak, iemand onnodig dagvaar, of ‘n onskuldige en regverdige persoon teregstel nie (soos wat sondaars die onskuldige Jesus gekruisig het). As ons dít doen sal God nié onregverdig wees soos ons nie; Hy sal ons straf (v.7).

 

Moenie omkoopgeld of omkoopgeskenke aanvaar om die gereg te verdraai nie (v.8). Omkopery laat die beste prokureurs skeef dink, sodat hulle die skuldige vrylaat en die onskuldige veroordeel (v.8). God sien dit en sal hulle straf.

 

Pasop dan vir omkopery. Moenie vir die verkeersman, prokureur, of polisie geld gee, sodat jy kan vrykom nie. Moenie vir die afrigter of skool geld gee, sodat jou kind in die span kan kom nie. Moenie vir kliënte geskenke gee, sodat jy hulle by ander maatskappye kan wegrokkel nie. Moenie ekstra geld gee sodat jou paspoort gouer kan reg wees nie. Moenie geld gee om inligting oor die vraestel te kry nie. Moenie lui wees en iemand betaal om jou skooltaak te doen nie. Moenie geld betaal om makliker jou lisensie te kry nie. Moenie geld gee, sodat jy makliker verby doeane kan kom nie.

 

God sien dit alles. Jou sonde sal jou inhaal (Numeri 32:23). As jy met omkopery besig is sal jy probleme in jou huis hê (Spreuke 15:27).

 

Moenie vreemdelinge onderdruk nie (v.9). God het reeds in die vorige hoofstuk dié opdrag gegee (22:21). Die feit dat hy dit herhaal wys dat God besorg is oor vreemdelinge. Die volk moes onthou hoe húlle in Egipte onderdruk is (v.9).

 

Michelle werk as ‘n chef in ‘n Chinese restaurant. Chris eet gedurig daar oor etensuur. Hy sien altyd haar silhoeët agter die Chinese blinders. Hy geniet die sig en dink sy is aantreklik. Eendag kom sy uit om vir die bestuurder iets te vra. Chris val amper van sy stoel af. Haar lewende voorkoms is tien keer mooier as haar pragtige silhoeët. Na ‘n jaar ontmoet hy haar. Sy is nog ouliker as wat sy mooi is. Hulle raak vriende en trou uiteindelik.

 

Moenie vashak by God se silhoeët in die siviele wet nie. Beweeg aan na Jesus in die Nuwe Testament, want in Hóm sien ons meer as net ‘n silhoeët: ons sien God in die beeldskone heerlikheid van sy karakter (Johannes 14:9, 1:18).

Ek het Maandag ‘n debat gekyk tussen twee ateïste en twee Baptiste Christene. Met verwysing na die siviele wet het die ateïste gesê God is immoreel: Hy vereis die doodstraf vir klein misdade, is jaloers, onregverdig, en keur slawerny goed. Ek hoop Eksodus 22:16-23:9 het jou anders oortuig.

[1] Petersen, Robert Chapman, p.147

Die tien plae: Pes, swere en hael

Sphinx

In Desember 1998 het ek en ‘n vriend vir twee weke in Vryheid gaan preek.  Op weeksdae het ons ‘n vakansie Bybelklub gehou vir kinders.  My vriend het vir die eienaar van die plaaslike SPAR gevra of ons dit daar kon hou.  Die man het gesê:  ‘Ek is ‘n Moslem en het ‘n groot elektrisiteitrekening.  Wat kan jou God vir my doen?’  My vriend het geantwoord:  ‘Kom saam met my.  Ek sal bid en vir jou wys wat my God kan doen.’  Die man het gou gesê:  ‘Toemaar, ek trek net jou been; ek is ook ‘n Christen.’  Die ware God is nie net ‘n teorie nie.  Hy is ‘n praktiese God wat werk.  Eksodus 9 wys dit.

 

Die vyfde plaag:  Pes (v.1-7)

Hoekom het die Voortrekkers die Kaap verlaat om binneland toe te trek?  In 1793 het die Xhosas 116 plase verwoes en die Afrikaners se beeste gesteel.  Wat het Dingaan van Piet Retief vereis voor hy sou instem om die dokument vir die oordrag van Natal te onderteken?  Retief moes Sikonyela aanval om die 700 beeste wat hy van Dingaan gesteel het, terug te bring.  Wat het Dingaan gedoen na hy Retief en sy geselskap vermoor het?  Hy het hulle families uitgemoor en 25 000 beeste gesteel.  Hoekom?  In hulle tyd en kultuur, soos in die Bybel s’n, was rykdom gemeet aan hoeveel vee jy het – nie aan hoeveel geld jy in die bank het nie (Genesis 30:25-42, Job 1:3, 42:12, Markus 5:11-13).  Vir ‘n hele land se vee om met siekte getref te word is ‘n reuse verlies.

 

Die lewende en ware God van Israel het weer vir Farao gesê om Israel te laat trek.  Indien hy nie wou luister nie, sou die Here Egipte hierdie keer nie net met sy vinger tref nie (8:19), maar met sy hand (v.3).  Hy sou nie dadelik al die vee tref nie, maar net dié wat buite in die veld was (v.3).  Dis hoekom daar in v.19, na die vyfde plaag, nog vee oor was.  Hierdie plaag was ‘n aanval op verskeie gode.  Apis was Egipte se heilige bul-god.  Mnevis was ook ‘n bul-god en die simbool van vrugbaarheid.  Hathor was ‘n koei-godin.  Isis was die koningin van die gode en het koeihorings op haar kop gehad.

 

Die Here sou nie die Israeliete se vee tref nie.  Hy wou wys dat Israel sy volk was, en het ook gesorg dat hulle vee het om in die woestyn te offer.  Die Here het gesê dat die plaag Egipte die volgende oggend sou tref (v.5).  Farao het ‘n dag gehad om tot sy gode te bid, sodat hulle die Here kon keer.  Hy sou weer agterkom dat Jahwe die ware God is.  Farao het iemand gestuur om te sien of die Israeliete se vee die plaag oorleef het.  Selfs nadat dit bevestig is, het hy sy hart verhard.

 

Die sesde plaag:  Swere (v.8-12)

Toe ek in die laerskool was het my pa ‘n groot pitsweer op sy heup gekry:  een met nege koppe (‘n nege-oog of karbonkel).  Dit was ‘n rou seer vol van geel etter.  Blykbaar was dit baie pynlik.  Dit kan met salf genees word.  In die ou dae het mense ‘n glasbottel vol kookwater gemaak en dit weer uitgegooi.  Terwyl die stoom nog uitkom, het hulle die bottel se opening teen die pitsweer gedruk.  Dit het die pitsweer met etter en al uitgesuig.  Kan jy jou indink hoe seer dit sal wees as jou hele liggaam met sulke swere oortrek is?

 

Moses moes hande vol van roet uit die bakoond skep en dit voor Farao in die lug gooi.  Farao moes die wonderwerk voor sy oë sien plaasvind, sodat hy kon weet dat die God van Israel dit gedoen het.  Israel was in Egipte soos yster in ‘n vuuroond (Deuteronomium 4:20).  Is dit nie ironies dat die Here dié plaag uit die vuuroond laat kom het nie?  ‘n Paar hande vol roet het ‘n fyn stof geword wat die land oordek het.  Deur ‘n wonderwerk het God gemaak dat dit in swere verander op mense en diere.  Die gode van towery en genesing –Hike, Imhotep, Sekhmet – kon hulle nie help nie.

 

Die swere was pynlik, ongeneeslik, en dodelik.  Die woord wat hier met swere vertaal word, word ook gebruik van Hiskia se swere.  As die Here hom nie genees het nie, sou hy gesterf het (2 Konings 20:7, 1).  Die woord word gebruik van Job se swere wat hy met ‘n potskerf gekrap het (Job 2:7-8).  Dit het hard geword en dan weer gebreek.  Daar was selfs wurms in die swere (Job 7:5).  Sy vel het swart geword en afgeval.  Die inflammasie het gemaak dat sy bene soos vuur brand (Job 30:30).  In Deuteronomium 28:27, 35, 60 gebruik Moses hierdie selfde woord vir swere.  Hy beskryf dit so:

 

“Die HERE sal jou swaar tref met swere van Egipte en met geswelle en skurfte en uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie… Die HERE sal jou tref met bose swere aan die knieë en aan die bene—waarvan jy nie gesond kan word nie—van jou voetsool tot jou skedel… en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was, sodat hulle jou aanklewe.”

 

Selfs die towenaars is getref en kon nie voor Moses staan nie.  God het Farao se hart verhard, sodat hy nogsteeds nie geluister het nie (vgl. Josua 11:20).

 

Die sewende plaag:  Hael (v.13-35)

Kort na sy bekering het Jonathan Edwards oor weerlig en donderweer geskryf:

 

‘And scarce anything, among all the works of nature, was so sweet to me as thunder and lighting; formerly nothing had been so terrible to me.  Before, I used to be uncommonly terrified with thunder, and to be struck with terror when I saw a thunder storm rising; but now, on the contrary, it rejoiced me.  I felt God, so to speak, at the first appearance of a thunder storm; and used to the take the opportunity, at such times, to fix myself in order to view the clouds, and see the lightnings play, and hear the majestic and awful voice of God’s thunder, which oftentimes was exceedingly entertaining, leading me to sweet contemplations of my great and glorious God.’[1]

 

Edwards het geweet wat alle Christene moet weet – iets wat met ‘n skok voor Farao se neus gehou is:  God beheer die natuur.

 

Moses moes vroegoggend vir Farao by die rivier kry en vir hom sê:  ‘Die Here sê jy moet sy volk vrylaat sodat hulle Hom kan aanbid.’  Voortaan sou God sy plae teen Farao se hart stuur [v.14, Heb. lêb] – ja, die eindste hart wat so verhard was.  So sou die Here wys dat Farao geen god is nie, maar dat Hý die ware God is.  As die Here wou, kon Hy lankal vir Farao en die Egiptenare uitgewis het.  Maar Hy was geduldig en het vir Farao opgewek, sodat Hy sy groot Naam, krag, en heerlikheid kon toon.  Dit moes bekend word dat dit Hy is wat konings oprig en weer neerwerp (Daniël 2:21).  “Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.” (Spreuke 16:4).

 

Die hael sou vroeg die volgende oggend val (v.18, 13).  Dit moet warm wees voordat hael kan vorm en val.  Die warm lug stoot die waterdruppels hoog op tot in die koue atmosfeer.  Daar vries die klein druppeltjie en val dit weer.  Dis nie swaar genoeg om deur die warm lug tot op die aarde te val nie.  Die warm lug stoot dit weer op.  As dit in die koue atmosfeer kom, dan vries daar nog ‘n lagie.  So hou dit aan, totdat dit groot en swaar genoeg is om tot op die aarde te val.  In die woestyn is die nagte koud.  As die natuurlike prosesse moes plaasvind, kon die hael nie vroeg in die oggend val nie.  Maar hierdie is ‘n wonderwerk.  God het die hael vroeg in die môre laat val.  Weereens het Hy gewys dat Hy die ware God is.  Volgens v.18, 24 was hierdie Egipte se ergste haelstorm vandat dit ‘n nasie geword het.  Egipte het eers na die vloed in Genesis 10:6, 20 ‘n nasie geword.  Die ergste storm voor dié een was die vloed.

 

God het ‘n finale waarskuwing gegee en hierdie keer barmhartigheid bewys:  “Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie binnekant gebring is nie—op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe.” (v.19).  Die Egiptenare wat God se woorde gevrees het, het gou opgetree en hulle vee ingebring (v.20).  Die res se vee en slawe is doodgeslaan (v.21).  “Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie, sal die gevolge dra; wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk.” (Spreuke 13:13, NAV).

 

God het donderweer, weerlig en hael gestuur en alles getref.  Wingerde, wildevy, en ander bome is deur die hael verwoes.  Nie net die hael nie, maar ook weerlig het skape en beeste doodgeslaan (Psalm 78:47-48, 105:32-33).  Die Israeliete in Gosen is nie getref nie; hulle het in rus en vrede gewoon (v.26, Jesaja 32:18).

 

Farao het vir Moses geroep:  ‘Hierdie keer het ek teen die Here gesondig.  Die Here is reg.  Ek en my volk is verkeerd.  Vra die Here om die donderweer en hael weg te vat – ek sal die volk laat gaan!’  Sien jy die implikasie van die woorde ‘dié keer’?  Hy sê eintlik dat hy nie die vorige kere verkeerd was en gesondig het nie.  Hy is nie regtig jammer oor sy sonde nie, maar hou net nie van die aaklige gevolge nie.

 

Moses het gesê dat hy vir die Here sou vra om die hael te stop nadat hy uit die stad uit was.  So sou Farao sien dat die hael nie vir Moses tref nie, en dat die aarde aan die Here behoort (vgl. Josua 10:11, Psalm 24:1).  Moses het geweet dat Farao nie die Here gevrees het nie; dat hy ‘n leë belofte gemaak het en nie die volk sou vrylaat nie.  Hulle ongehoorsaamheid in v.21 het bewys dat hulle nie die Here gevrees het nie.

 

Die hael het die vlas en gars weggeslaan.  Die Egiptenare het vlas gebruik om hulle wêreld bekende Egiptiese linne te maak.  Die ekonomie was in sy kanon in.  Die koring en spelt het nog nie opgekom nie en was veilig.  Maar ook dít sou binnekort deur die sprinkane vernietig word.  Die Egiptiese godin Nut het die hemelruim voorgestel.  Shu het die hemel in plek gehou, en Tefnut was die godin van vog in die atmosfeer.  Hulle was veronderstel om die weer te beheer, maar kon nie teen die Here staan nie.  Geb was die god van landbou en Seth die god van oeste.  Hulle kon nie Jahwe se hand van oordeel keer of terugdraai nie.

 

Toe God die hael gestop het, het Farao sy hart verhard en sy belofte gebreek – net soos die Here gesê het.

 

Wat is die groot les wat ons uit hierdie drie plae leer?  God is soewerein oor pes, siekte, en die weer.  Na 2004 se tsunami het ek in ‘n preek gesê dat God soewerein is.  Iemand wat die preek gehoor het, het gesê:  ‘Om te sê dat God die tsunami gestuur het, is Godslastering.’  Die Bybel sê egter dat God hierdie dinge beheer.  Verse wat wys Hy is soewerein oor siekte is die volgende:

 

  • “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?” (4:11).
  • “Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie… Ook het al sy broers en al sy susters en al sy bekendes van vroeër na hom gekom… en hulle het met hom medelyde gehad en hom vertroos oor al die onheil wat die HERE oor hom gebring het.” (Job 2:10, 42:11). Job het swere gehad. Let op dat Job nie gesondig het deur te sê dat God die slegte dinge oor hom gestuur het nie.
  • “En toe die wolk van die tent af weggetrek het, kyk, toe was Mirjam melaats, soos sneeu. En Aäron het Mirjam aangekyk en—sy was melaats!” (Numeri 12:10). God het vir Miriam gestraf omdat sy vir Moses teëgegaan het.
  • “Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.” (Deuteronomium 32:39).
  • “Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?” (Klaagliedere 3:38).
  • Jesaja 45:7 praat van God wat “die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.”
  • “Maar die hand van die HERE was swaar op die Asdodiete, en Hy het hulle verskrik en hulle getref met geswelle, Asdod en sy grondgebied… Hy het die mense van die stad getref, van die kleinste tot die grootste, sodat geswelle aan hulle uitgebreek het.” (1 Samuel 5:6, 9).
  • “En die HERE het die kind wat die vrou van Uría vir Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het.” (2 Samuel 12:15).
  • “En die HERE het ‘n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentig duisend man gesterwe.” (2 Samuel 24:15).
  • “[as] Ek die plaag van melaatsheid in ‘n huis van die land van julle besitting laat kom” (Levitikus 14:34).
  • “Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (Johannes 5:14). Die implikasie is dat God die man weer kon laat siek word.
  • “Daarom sal die melaatsheid van Naäman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe. En hy het van hom uitgegaan melaats, soos sneeu.” (2 Konings 5:27).
  • “En die HERE het die koning aangetas, sodat hy melaats was tot die dag van sy dood toe” (2 Konings 15:5).
  • “En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.” (Handelinge 12:23).
  • “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.” (1 Korintiërs 11:30). God het die Korintiërs getref omdat hulle die nagmaal misbruik het.
  • “Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.” (Openbaring 2:22-23).
  • “En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.” (Openbaring 6:8). Die teks sê dat die perd en sy ruiter mag ontvang het om die pes te bring. Wie het aan hulle die mag gegee? God (vgl. Job 2:6).
  • “Toe gaan die eerste een [engel] weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.” (Openbaring 16:2).

 

God is ook soewerein oor die weer:

 

  • God het die vloed gestuur (Genesis 6-9). Psalm 29:10 sê: “Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid.”
  • “Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller… Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns… Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte. Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk; en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond: óf tot ‘n tugroede, óf tot nut van sy aarde, óf tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind.” (Job 36:32, 37:6, 10-13).
  • “Maar die HERE het ‘n sterk wind op die see gewerp, en toe daar ‘n groot storm op die see ontstaan, het die skip gevaar geloop om skipbreuk te ly… En met sonop het God ‘n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op die hoof van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag sterwe, en gesê: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.” (Jona 1:4, 4:8).
  • “Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring” (Psalm 148:8).
  • “Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as. Hy werp sy ys heen soos stukke—wie kan bestaan voor sy koue? Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai—die waters loop.” (Psalm 147:16-18).
  • “En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ‘n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” (Openbaring 16:17-21).
  • “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing” (Openbaring 6:12).
  • “Die HERE sal maak dat die pes jou aankleef totdat Hy jou vernietig uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. Die HERE sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy omkom. En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees. Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.” (Deuteronomium 28:21-24).
  • “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie” (Job 1:21-22). Weerlig het Job se skape getref en ‘n stormwind het die huis omgewaai waarin sy kinders gesterf het. Job het nie gesondig deur te bely dat die Here dit gedoen het nie.

 

Moenie praat en vrees asof die natuur soewerein is nie.  Moenie van siekte en rampe sê dat die duiwel gekom het om te steel nie.  Dit is wel so dat God die duiwel soms toelaat om siekte en rampe te bring (Job 1:12, 2:6, Matteus 17:18, Lukas 13:16).  Maar die tekste wat ek hierbo gelys het wys dat God nogsteeds in beheer is van hierdie dinge.  Vir die gelowige sal God siekte en rampe ten goede laat meewerk (Romeine 8:28).  Net die ware God kan dit doen.

 

Wanneer God siekte en rampe oor ongelowiges stuur is Hy geduldig en gee aan hulle ‘n kans om hulle te bekeer (v.20, Romeine 2:4, 2 Petrus 3:9).  As hulle dit nie doen nie, dan sal hulle sterf (v.21).

 

Hoe is God anders as die gode van Egipte as Hy nie soewerein is nie.  As jy bely om ‘n Christen te wees en God se soewereiniteit ontken, dan aanbid jy ‘n afgod.  Die God van die Bybel is soewerein (Psalm 103:19).  As jy sê Satan beheer siekte en rampe, sal jy in vrees lewe.  In teorie glo jy dalk nie dat die duiwel soewerein is nie, maar in praktyk lewe jy asof die duiwel en gode van Egipte so sterk soos die Here is.  Watse troos kan jy hê as jy siek word?

 

Voor 1838 het sendelinge vir 18 jaar geen sukses onder die Zulus gehad nie.  By die slag van Bloedrivier het 464 Voortrekkers 15 000 van die gevreesde en onoorwonne Zulu Impi gedood.  Na dié slag het honderde duisende Zulus tot bekering gekom.  Hoekom?  Hulle het gesien dat hulle gode, toordokters, diktators, en voorvader geeste geen mag gehad het teen die God van die Voortrekkers.  Hulle het besef dat Hy die ware God is.[2]

[1] Iain Murray, Jonathan Edwards: A New Biography, pp.36-37

[2] Peter Hammond, The Day of the Covenant – ‘n praatjie gelewer by die Reformation Society.