Bome sonder vrugte

Die verskil tussen ware en valse gelowiges

Barren fruit tree

In my erf het ek ‘n pruimboom wat nie vrugte dra nie.  Die helfte van die boom is so droog soos die Kalahari.  My vrou het al meer as eenkeer gesê dat ons die boom moet uithaal.

 

In Mk.11:13 en Lk.13:6-9 het Jesus gesê dat Israel ‘n vyeboom is wat nie vrugte dra nie.  Hy het dit vervloek en gesê Hy gaan dit uitkap.  Jud.12 praat van die vals leraars as vrugtelose bome.

 

In Jes.5 beskryf die profeet vir Israel as ‘n wingerd, en sê hy dat sy suur druiwe voortgebring het.  Dit sal help as ons uit haar voorbeeld leer, sodat ons nie in dieselfde strik trap as sy nie.

 

God se wingerd (v.1-7)

Wanneer Carina se plante vrek, sê sy maklik dat sy nie groen vingers het nie.  Die waarheid is egter dat sy nie genoeg tyd, aandag en water vir haar plante gee nie.  Maar met die Here is dit nie so nie.  Jy sal binnekort sien wat ek bedoel.

 

Jesaja het ‘n liefdeslied vir sy Beminde gesing (v.1).  Sy Beminde het ‘n wingerd uit Egipte gaan haal en dit op ‘n vrugbare heuwel in Kanaän geplant (v.1, Ps.80:9).  Hy het die grond omgespit en klippe uitgehaal om ‘n kwaliteit wingerd te plant (v.2, Jer.2:21).  Om dit op te pas en goeie wyn te maak, het Hy ‘n wagtoring gebou en ‘n parskuip uitgekap (v.2).

 

Maar toe die seisoen aanbreek, het Israel suur druiwe voortgebring en nie die soet en sappige vrugte van bekering nie (v.2, Mk.12:1-9).  Waar het dinge fout gegaan:  wie was verkeerd tussen die Boer en sy wingerd, tussen die Here en Israel (v.3)?  Die Here het alles gedoen dat die wingerd kon groei – hoekom het dit dan suur druiwe voortgebring?  Duidelik was die probleem by die wingerd en nie by Hom nie.

 

Wat sou Hy met die wingerd gedoen het?  Hy sou die doringheining [Heb. meśûkâh, Sp.15:19] en die klipmuur wat die wilde diere en skelms moes uithou, verwyder het (v.5, Sp.24:31).  Almal sou ingekom het om dit af te wei en te vertrap (v.5, 3:14, Eks.22:5, Ps.80:13-14, Jer.5:10).

 

Die Here sou nie meer die wingerd gesnoei het of omgespit het nie, maar dit in ‘n woestyn verander het (v.6).  Soos in Gn.3:18 sou Hy dit vervloek het, sodat dit met dorings en distels oortrek was (v.6, 7:23-25).  Hy sou ook vir die wolke gesê het om nie meer daarop te reën nie (v.6, Dt.28:23-24, 1 Kon.17:1).

 

Israel en Juda is die wingerd wat suur druiwe voortgebring het; die Here van die Leërskare is die Beminde van wie Jesaja in v.1 gepraat het (v.7).  In die verlede was die wingerd vir Hom ‘n plesier, maar nou het dinge verander.  Israel het nie die soet druiwe van reg en geregtigheid voortgebring nie, maar die suur druiwe van bloedvergieting en geskreeu (v.7).

 

In die Hebreeus klink die woordspeling só:  ‘Hy het mishpâ [reg] gesoek maar miśpâch [bloedvergieting] gekry; tsa‛ăqâh [geskreeu] in stede van tsedâqâh [geregtigheid].’

 

God se wee (v.8-30)

Het jy al ooit gedink dat die hel ‘n oorreaksie van God se kant af is, en gewonder hoekom Hy besluit het om ongelowiges so swaar te straf?  Ek het al, wat net wys dat ek nie die erns van sonde verstaan het nie.

 

‘n Paar jaar gelede het ek iets daarvan verstaan toe die Here my ‘n diep oortuiging van my eie sonde gegee het, en toe ek by Ellis Park gesien het hoe goddeloos mense is.  Ek het besef dat die probleem nie by God se verstaan van liefde lê nie, maar by ons verstaan van heiligheid.

 

En wanneer ons God se heiligheid verstaan, maak sy haat en oordeel oor die sonde in v.8-30 perfek sin.  Dié verse is eintlik ‘n kommentaar op v.1-7 waarin Jesaja die betekenis van suur druiwe en die vernietiging van die wingerd verduidelik.

 

[1] Materialisme

Die Here het sy wee uitgespreek teen dié wat Lv.25:23-31 oortree het, en prokureurs gehuur het om die armes se familieplase by hulle weg te vat (v.8, 3:14-15, 1 Kon.21, Mg.2:2, 9, Am.2:6-7).  Soos in die bordspeletjie Monopoly, wou hulle alles vir hulleself gehad het, en het hulle as’t ware die armes van die grond afgedruk.

 

As gevolg daarvan het die Here van die Leërskare vir Jesaja gesê dat Hy die rykes uit hulle groot en luukse huise uit sou verwyder (v.9, Am.3:15).  Hy sou die wingerde en koringlande wat hulle by die armes gesteel het, onvrugbaar gemaak het:  ‘n wingerd van vier hektaar (vier rugby velde), sou slegs 22 liter wyn opgelewer het, en ‘n 220 liter drom vol saad sou ‘n skrale 22 liter koring opgelewer het.  Die gulsige rykes sou teen ‘n hengse verlies geboer het (Lv.26:26, Hg.1:6, 2:16).

 

[2] Hedonisme[1]

God het sy wee uitgespreek teen dié wat van vroeg tot laat sterk drank en wyn gedrink het (v.11).  Volgens een kommentator het drank hulle soggens laat opstaan, en saans uit die bed uit gehou.[2]  Hulle het vir partytjies gelewe; hoe dronker hulle was, hoe lekkerder het hulle gesing (v.12, Am.6:5-6).  Hulle het nie daaraan gedink om die Here vir sy groot werke te prys nie; die musiek was vir hulle eie vermaak (v.12).

 

Hoekom sou hulle buitendien die Here geëer en gehoorsaam het as hulle Hom nie geken het nie (v.13, Hos.4:6)?  A.g.v. hulle onkunde en sonde, sou die Here hulle na ‘n vreemde land toe gevat het (v.13).  Hulle sou nie meer luukse partytjies gehou het waar daar volop kos en wyn was nie, maar hulle sou honger en dors gewees het (v.11-13).

 

Die doderyk sou egter sy mond oopgemaak het en homself trommeldik geëet het (v.14).  Die rykes se dood was die begraafplaas se brood.  So het God hulle hoogmoedige oë afgebring en hulle verneder (v.15, 2:9, 11-12).  Hy het hulle leë en bouvallige huise die weiplek van lammers en trekbokke gemaak (v.17).  So het God die rykes se neuse in die grond gevee; Hy het Homself en sy heilige geregtigheid verhef (v.16).

 

[3] Spottery

Die volk het hulle boosheid met die wa-toue van goddeloosheid nadergesleep en dit met hulle saamgedra (v.18).  Soos in ‘n net het hulle verstrik geraak, sodat hulle nie kon vrykom nie (v.18, Sp.5:22).  Die sonde het hulle verblind en verhard, sodat hulle gesê het:  ‘Na baie jare van sonde het die Here nog nie iets aan ons gedoen nie.  As Hy regtig ‘n probleem met ons het, wil ons Hom uitdaag om ons te oordeel sodat ons kan weet dat Hy bestaan!’ (v.19, vgl. 2 Pt.3:4).

 

[4] Amoraliteit

Dit verwys na mernse wat nie morele waardes het nie.  Uiteindelik raak dit so erg, dat hulle sê goed is sleg en sleg is goed (v.20).  Hulle dink onderstebo (Rm.1:28).  Volgens húlle is morele waardes ‘n kwessie van smaak:  ‘Dit wat vir jou bitter en donker is, is vir my soet en lig’ (v.20).  Maar die mense wat só lewe sal geoordeel word (v.20).

 

[5] Verwaandheid

Daar was ook wee vir dié wat eiewys was en nie bereid was om vir die Here te luister nie (v.21, 24, Sp.3:7, 12:15, 16:18, 26:12, 16, 28:11, Rm.12:16).

 

[6] Onreg

Wee het gewag op dié wat dapper helde was wanneer dit by wyn en sterk drank kom (v.22, 11).  Hulle het mekaar ‘gedare’ om te kyk wie die sterkste drank kan drink.  So het hulle gewys dat hulle ‘regte manne’ is.  Maar in hulle besope toestand het hulle die gereg verdraai (v.23).  Vir ‘n groot som drankgeld het hulle die skuldige persoon vrygelaat, en die onskuldige van sy regte ontneem (v.23, Eks.23:8, Sp.17:15).

 

[7] Dood

Omdat hulle die Heilige God se Woord en wet verag het, sou die vlamme van sy oordeel hulle soos droë gras en stoppels verteer het (v.24).  Hy sou die wingerd tot aan sy wortels vernietig het, sodat die bloeisels nie vrugte voortgebring het nie (v.24).

 

God se woede sou soos ‘n vuurhoutjie by petrol teen hulle ontvlam het; dit sou hulle soos ‘n aardbewing geskud het (v.25, Jer.4:24, Nah.1:5).  Hy sou hulle met ‘n regter vuishou geslaan het (v.25).  Die oortreders se lyke sou soos rommel in die strate gelê het, en selfs ná dit sou Hy nie die uitgestrekte arm van sy toorn teruggetrek het nie (v.25, 9:12, 17, 21, 10:4).

 

In sy soewereiniteit oor die nasies sou Hy sy banier vir hulle gewaai het en gefluit het, sodat hulle van die eindes van die aarde af teen God se uitverkore volk gekom het (v.26, 7:18, Dt.28:49).  Volgens Jesaja was Israel se vyande:

 

  • So vinnig soos ‘n warrelwind (v.26, 28).
  • Wakker, dodelik en slaggereed (v.27-28).
  • Instaat om sonder rus aan te hou veg (v.28).
  • Aggressief soos sterk jong leeus wat brul en grom as hulle iets gevang het (v.29).
  • Angswekkend soos reuse branders op die see en donker wolke wat die son uitblok (v.30, 8:22). Daar was nie ‘n enkele straal van hoop nie.

 

Watse lesse leer ons uit Jesaja 5?  Moenie soos Israel dink dat jy aan die Here behoort as jy nie die goeie vrug van bekering dra nie.  Dit is tog die vrug van goeie werke wat wys of iemand se geloof eg is, en of hy gered is of nie (Jk.2:14-26).  Jesus het ook gesê dat jy die boom aan sy vrugte sal ken, en dat dié wat sy lering uitvoer en die wil van die Vader doen, waarlik gered is (Mt.7:20-27).

 

Volgens Petrus kan jy weet of God jou gekies en geroep het, as jou geloof die goeie en gesonde vrug van gehoorsaamheid voortbring (2 Pt.1:10, 5-9).  As die Wingerd se lewensap deur jou vloei, kan jy nie anders as om die vrug van ware bekering te dra nie (Jh.15:1-8).

 

Jou eenheid met die Ware Wingerd sal gesien word in die feit dat jy geestelik groei; dit sal gesien word in karaktertrekke soos morele opregtheid, ‘n persoonlike kennis van God, selfbeheersing, volharding, ‘n toegewyde lewe, ‘n toegeneentheid [Eng. ‘affection’] tot ander Christene, liefde vir God en jou naaste, blydskap in die Here en vrede met Hom, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid en sagmoedigheid (2 Pt.1:5-8, Gal.5:22).

 

Iemand wat die suur druiwe van Jes.5 en ander sulke gedeeltes dra, wys dat hy nie gered is nie.  Te veel mense maak hulle uiterlike verbintenis tot die kerk die termometer waarvolgens hulle meet of hulle hemel toe gaan of nie:  die doop, lidmaatskap, tiendes, kerkbywoning, verkiesing tot die amp van ouderling of diaken, ens.

 

Hierdie mense se leefstyle wys egter dat hulle nie die Here ken nie, en dat hulle nie die eerste ding van Christenskap verstaan nie.  Vir hulle gaan die lewe oor geld en plesier, en nie oor die Here nie (v.8-12).  Hulle is slawe van sonde, en hou nie daarvan dat die Bybel vir hulle sê hoe hulle moet lewe nie – hulle wil self besluit (v.18, 20).  Hulle lewe asof daar nie ‘n oordeelsdag gaan wees nie (v.19).

 

Hulle is eiewys, sodat hulle hulle eie koppe volg (v.21).  Hulle aanvaar nie die raad van ander nie, of dit nou hulle ouers, ander gesagsfigure, of mense met meer lewenservaring as hulle is.  Jy sal hulle nie by ‘n sosiale geleentheid sien sonder ‘n glas wyn of sterk drank in hulle hande nie; hulle oë is gedurig rooi van al die drank (v.11, 22).  Hulle gee en vat omkoopgeskenke (v.23).

 

Ons kan seker nog baie ander sondes noem, maar die punt is eenvoudig dat hierdie mense nie vrug dra nie, omdat hulle nie deur geloof aan die Wingerd geheg is nie.  Hulle mag dalk uiterlik met Hom assosieer, maar innerlik vloei sy lewensap nie deur hulle nie (Jh.15:1-8).  Die Heilige Gees woon nie in hulle om die vrug van bekering te produseer nie (Gal.5:16-26).

 

Christus se woorde het nie diep wortels in hulle harte nie, en daarom kan hulle nie vrug dra nie (Jh.15:7).  Die Bybel verveel hulle, en gebed is nie ‘n gereelde deel van hulle lewens nie (Jh.15:7).  Wanneer die Boer hulle snoei, val hulle weg – hulle groei nie geestelik nie (Jh.15:2).

 

Omdat hulle dan vrugtelose ongelowiges is, sal God die takke van hulle lewens afbreek en dit in die vuur gooi (v.24, Jh.15:6).  Moet dan nie soos hulle wees nie, maar bekeer jou.  Vra dat die Heilige Gees deur wedergeboorte die saad van Christus se lewe in jou hart sal plant.  Glo dat Hy aan die kruis die wyn van sy bloed gestort het om jou sonde weg te was.  Spandeer dan die res van jou aardse en hemelse bestaan in soete gemeenskap met die Wingerd.

 

As jy dít doen sal jy nie vrugte dra wat uiterlik mooi lyk, maar van polystyrene gemaak is nie.  Die trosse van jou lewe sal so groot en swaar wees soos Num.13 se druiwe wat die spioene aan ‘n paal vasgemaak het om dit op hulle skouers te dra.  Die goeie vrugte wat jy dra sal die Vader verheerlik (Jh.15:8).

 

[1] Hedonisme verwys na mense wat vir plesier lewe.

[2] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.71

Advertisements

Wanneer God bid

jesus-praying

Was jy al ooit in ‘n winkel of ‘n restaurant waar jy kon hoor waaroor die mense langs jou gepraat het? Om dit reg te kry moet jy uitblok wat om jou aangaan.  En so wil ek vra dat jy vir ‘n oomblik die dinge wat jou aandag kan aftrek, sal uitblok.

 

Kom saam met my. Jesus en die elf dissipels het reeds die bovertrek verlaat en was oppad Getsemane toe (14:31).  Maar voor Hy in 18:1 daar aangekom het, het Hy die wonderlike gebed van Jh.17 gebid.  Kom saggies nader en sit jou oor teen die grond om te hoor wat Hy daardie aand gebid het, om te hoor hoe dit klink wanneer God bid.

 

Jesus bid vir Homself (v.1-5)

B.B. Warfield was ‘n Amerikaanse teoloog wat in die 19de en 20ste eeu gelewe het. Hy het van Johannes Calvyn gesê dat geen mens ‘n dieper sin van God gehad het as hý nie.[1]  Sy hoë siening van God se heerlikheid het soos ‘n sterk parfuum deurgekom in sy boeke, lesings en preke.

 

En as dit waar is van Calvyn, hoeveel te meer nie van Jesus nie? Hy self is tog God soos wat die inhoud van hierdie gebed vir ons wys.  Maar die feit dat Hy gebid het, wys vir ons dat Hy ook ‘n mens is.

 

Toe Hy klaar met die dissipels gepraat het, het Hy met die Vader gepraat (v.1). As mens het Hy sy onderdanige afhanklikheid van die Vader erken, en in gebed na die hemel toe opgekyk (v.1, 11:41, Ps.121:1-2, 123:1-2).  Die uur van sy kruisdood het aangebreek (v.1).  Hy het vir die Vader gevra om Hom te verheerlik, sodat Hy die Vader kon verheerlik (v.1).  Deur sy dood aan die kruis sou Hy miljoene sondaars gered het, sodat hulle Hom en die Vader (en ook die Heilige Gees) verheerlik het.

 

Die Vader het aan Hom die gesag gegee om dié mense te red wat Hy voor die skepping van die wêreld as ‘n geskenk aan Hom gegee het (v.2, 6, 9, 24, 6:37, 39, 10:29, 18:9, Ef.1:4, 2 Tm.1:9, Tit.1:1-2). Die ewige lewe wat Hy aan hulle gee is nie die onbewustelike ewige bestaan waarin Buddhiste en Hindoes glo nie.  Dit is eerder ‘n intieme en persoonlike kennis van die enigste ware God en van Jesus Christus wat deur Hom na die aarde toe gestuur is (v.3).

 

Terwyl Hy op die aarde was het Jesus die Vader verheerlik deur die taak te voltooi wat Hy vir Hom gegee het (v.4, 19:30, Fil.2:8). Nou was Hy oppad terug na die Vader toe om die Goddelike heerlikheid te ontvang wat Hy gehad het nog voordat die wêreld bestaan het (v.5, 24, 1:1, Sp.8:30, 22-31, Fil.2:6-7).

 

Dit dui weereens vir ons aan dat Hy volkome God is, omdat God nie sy heerlikheid met enige iemand deel nie (Gn.48:11). Toe Hy dus in v.3 gesê het dat die Vader die enigste ware God is, het Hy nie bedoel dat nie God is nie.  1 Jh.5:20 sê dan vir ons dat Jesus, soos die Vader in Jh.17:3, die ware God en die ewige lewe is.  Jesus se bedoeling is eerder dat die Vader vir Hom die enigste ware God is.  Hy het as mens gepraat toe Hy dit gesê het (vgl. Ef.1:3, 17).

 

Wanneer dit by sy Goddelikheid kom, is Christus se heerlikheid vir ons so belangrik soos die Vader s’n (v.1-5, 24). Ook wanneer ons bid moet niks vir ons belangriker wees as dit nie.  Dit beteken nie dat jy nie vir jou geldsake, huwelik, of jou kind se redding mag bid nie.  Dit beteken egter dat God se heerlikheid ook in hierdie dinge vir jou ‘n prioriteit sal wees.

 

Wyle dr. Martin Holdt het van ‘n man en vrou vertel wat ernstig vir hulle dogter se redding gebid het. Toe daar vir jare niks gebeur het nie, het hulle moedeloos geword en gevas.  Die Here hulle daarvan oortuig dat hulle die verkeerd motief gehad het:  hulle wou hê dat hulle kind gered moet word, sodat sy nie hel toe gaan nie.  Maar eintlik moes hulle gebid het dat die Here haar sou red om Homself daardeur te verheerlik.  Hulle het toe begin om met die regte motief te bid, en ‘n maand daarna het sy tot bekering gekom.

 

Maar wat help dit ons bid as God buitendien in die ewige verlede besluit het wat Hy gaan doen? Dit het nie vir Jesus gekeer nie, omdat Hy geweet het sy Vader gaan hierdie dinge deur gebed tot vervulling bring (v.2, 5, 15, 17, 20-24).  God se soewereiniteit moet ons juis aanspoor om te bid, omdat net Hý dít kan doen wat Hy in sy Woord belowe het (bv. Dn.9:2-3).

 

Jesus bid vir die apostels (v.6-19)

Ouers wat hulle taak ernstig opneem sal alles in hulle vermoë doen om hulle kinders teen slegte invloede te beskerm. Hulle sal hulle kinders leer, waarsku, dissiplineer en liefhê, sodat hulle nie die pad byster raak nie.  Hulle kan dit egter nie waarborg nie.

 

Maar met die Here is dit anders: Hy kan hulle beskerm, sodat nie een van hulle verlore gaan nie.  Hulle mag dalk versoek word en afdwaal, maar omdat Hy in Jh.17 vir hulle gebid het (en volgens Heb.7:25 steeds vir hulle bid) sal hulle nie finaal wegval nie.

 

Terwyl Jesus op die aarde was het Hy die Vader se Naam aan die apostels bekend gemaak (v.6, Mt.13:11). Die Vader het hulle gemaak en aan die Seun gegee om deur die Woord vir Hom te lewe (v.6).  Deur hierdie Woord het hulle geweet dat Hy van die Vader af gekom het, en dat die Vader alles vir Hom gegee het (v.7-8):  hulle (v.6), dié wat in die toekoms gered sou word (v.2, 20, 24), die werk van verlossing (v.4, 18:11), God se woorde (v.8, 12:49-50, 1 Ts.2:13), God se Naam (v.11-12), God se heerlikheid (v.22, 24), alles (v.7, 16:15, 3:35).

 

Omdat die apostels dan aan Hom en die Vader behoort het, het Hy nie vir die ongelowige wêreld gebid nie, maar vir húlle sodat Hy in hulle lewens verheerlik kon word (v.9-10). Hy het vir die Vader gevra om hulle in sy kragtige Naam te bewaar – die Naam wat Hy ook vir die Seun gegee het (v.11, Fil.2:9).  Toe Jesus nog op die aarde was het Hý dit gedoen, sodat nie een van hulle verlore gegaan het nie (v.12, 10:28).  Maar noudat hulle alleen agtergebly het, het Hy vir die Vader gevra om dit te doen (v.11).  So sou hulle as ‘n eenheid tot in die hemel gekom het, net soos wat Hy en die Vader een was (v.11).

 

Judas was die enigste een wat uit die groep uit weggeval het (v.12). Hy was nie een van dié wat die Vader aan die Seun gegee het nie (v.6, 9).  Hy was die seun van die verderf wat aan die duiwel behoort het en in sy diens gestaan het (v.12, 6:70-71, 12:4-6, 13:2, 27, 2 Ts.2:3).  Hy was oppad hel toe (v.12, Hd.1:25).

 

Hy was soos ‘n vlooi op die Leeu se rug: hy het gekies waar hy wou loop – niemand het hom gedwing nie.  Maar met die vlooi op sy rug het die Leeu in die rigting geloop wat Hy van ewigheid af besluit en voorspel het (v.12, 13:18, Ef.1:11).  Die vlooi het nou wel sy bose planne uitgevoer, maar hy kon nie die Leeu se planne omverwerp nie (Lk.22:22, Hd.2:23, 4:27-28, Job 42:2, Jes.46:9-10, Dn.4:35).

 

Die ander elf apostels was nie soos Judas nie. Hulle het Jesus se lering in hulle harte ontvang, en daarom ook sy volkome blydskap ervaar (v.13-14).  Omdat hulle soos Jesus anders was, het die wêreld hulle gehaat (v.14, 15:18-19, 1 Pt.4:3-4).  Jesus het egter nie gebid dat die Vader hulle uit die wêreld moes wegneem nie – dit was nog nie die regte tyd nie – maar dat Hy hulle van die Bose moes bewaar (v.15, Mt.6:13, Lk.22:31-32).

 

Die dissipels was dan in die wêreld (v.15), maar soos Jesus was hulle nie van die wêreld nie (v.16).  Hulle het aan Christus behoort:  Hy het hulle afgesonder om die waarheid van God se Woord te doen en aan die wêreld te verkondig (v.17-18, 1:1, 14, 14:6, 20:21, Mt.28:19).  Hy het Homself eers aan die kruis afgesonder, sodat Hy húlle daardeur kon afsonder om vir Hom te leef en die evangelie te verkondig (v.19, 1 Kor.1:2, 30, 6:11, Tit.2:14, Heb.10:10).

 

Jesus bid vir die kerk (v.20-26)

Ek het al by verskeie geleenthede dié aanhaling van Robert Murray McCheyne gebruik. Omdat dit so goed is, neem ek vrymoedigheid om dit weer te gebruik.  Hy het gesê:  ‘If I could hear Christ praying for me in the next room, I would not fear a million of enemies.  Yet the distance makes no difference.  He is praying for me.’[2]

 

En so maak die verloop van tyd ook nie ‘n verskil nie. Jesus het nou wel 2000 jaar gelede hierdie gebed gebid, maar die effek daarvan ervaar ons vandag nog in ons lewens.  Volgens v.20 het Jesus nie net vir die apostels gebid nie, maar ook vir dié wat in die toekoms deur hulle Woord in Jesus sou glo (v.20, 18-19, Rm.10:14).  Maak dit jou nie dankaar dat Jesus eeue tevore al vir jou redding gebid het nie?

 

En moet ons nie dieselfde doen nie? Laat ons bid, nie net vir ons kinders en kleinkinders nie, maar ook vir húlle agterkleinkinders en vir dié wat oor 250 jaar van nou af gebore sal word.  Ek dink nie ons besef eintlik watse effek ons voorvaders se gebede op ons gehad het, en watse effek ons gebede op Suid-Afrika en die wêreld in die jaar 2450 sal hê nie.

 

Soos wat die Ou Testament gelowiges vir 4000 jaar gebid het dat die Messias moet kom, is elke gebed wat ons bid nóg ‘n druppel in die emmer. Een druppel is nie baie nie, maar kan jy jou indink watse effek dit op die toekoms sal hê as tienduisende van die emmers wat in God se troonkamer staan vol is (Op.5:8, 8:3-5)?

 

Kyk maar na die effek van dit wat Jesus in Jh.17 gebid het. Hy het gebid dat die kerk een sal wees soos wat Hy en die Vader een is (v.21, 10:30, Ef.4:4-6, 1 Jh.1:3).  Die wêreld sien die verskillende denominasies en sê dat Jesus se gebede nie beantwoord is nie.  Hulle sien hoe kerke skeur, en sê dan dat Jesus se gebede misluk het.

 

Maar hulle kyk mis hoe die Vader reeds Jesus se gebede begin beantwoord het. Waar het jy al ooit van ‘n godsdiens of ‘n sosiale klub gehoor wat mense uit soveel verskillende agtergronde en kulture in een liggaam kan saambring?

 

Die Moslems sê dat húlle een is, en dat die Chrístene verdeeld is. Maar dit is húlle wat kort na hulle ontstaan in die Sunni en Shia faksies verdeel het, en nogsteeds onder mekaar veg tot die dood toe.  Dit is in Moslem state wat radikale groepe hulle eie mense doodmaak.

 

In die Christelike kerk omhels ons dié wat die Here Jesus en sy evangelie liefhet, al stem hulle nie met ons saam oor die uitverkiesing, die geestelike gawes of die doop nie. En dit is hierdie eenheid wat vir die wêreld wys dat Jesus die Seun van God is, en dat ons sy kinders is (v.21, 13:34-35).

 

Die wêreld het vergeet dat Jesus se gebed nog nie finaal beantwoord is nie, maar dat die Vader nog besig is om hierdie eenheid te bewerk.  Hy is besig om Christus se heerlike beeld in ons te vorm (v.22, 2 Kor.3:18, Kol.1:27).

 

Omdat almal van ons dan meer en meer soos Hý word, lyk ons ook meer na mekaar (v.22). Ons is soos troepe in ‘n weermag, waarvan almal eenders lyk.  Wanneer Jesus kom gaan ons almal soos Hý lyk (1 Jh.3:2).  Dán sal ons volmaak een wees soos wat die Vader en die Seun een is (v.22-23).

 

Hierdie eenheid bestaan nie net tussen ons en ander gelowiges nie, maar ook tussen ons en die Here. Deur die Gees wat in ons woon is ons reeds een met die Vader en die Seun (14:21, 23, Mt.28:19, 2 Pt.1:4).

 

Maar wanneer die Here kom sal ons volmaak een wees met Hom (v.23). Ons eenheid met mekaar is eintlik gebasseer op ons eenheid met Hom.  As ‘n huwelik, gesin, familie of gemeente dan verdeeld is, wys dit dat een of meer van die partye nie in ‘n nabye eenheid met die Here lewe nie.

 

Ek hoop dat dit jou help om te sien hoekom die wêreld se beskouing van Jesus tot ‘n groot mate van ons eenheid met mekaar afhang (v.23).  Die beeld wat hulle van God se liefde het kry hulle deur te kyk na hoe ons mekaar liefhet, net soos wat ‘n kind se gedrag vir jou iets van sy ouers sê (v.23).  Waar gemeentes en individuele Christene verdeeld is, is hulle soos ‘n Hollywood film wat die Here se Naam as ‘n vloekwoord gebruik.

 

Wanneer ek aan hierdie dinge dink, verlang ek daarna om by Jesus te wees. As ons eers in die hemel is, gaan ons eie belange en agendas nie meer vir ons belangrik wees nie.  Al wat vir ons gaan saakmaak is om die Vader en die Seun se wonderbare heerlikheid en ewige liefde te sien en te geniet (v.23-24, 5, Jer.31:3, Rm.9:23, Ef.1:4, 1 Pt.1:20).  Kan jy jou indink hoe dit moet wees om in ‘n wêreld van verwondering en liefde te lewe?

 

Ongelukkig is hierdie wêreld nie vir almal bedoel nie. Dit is net vir dié wat die Here ken en wat glo dat die Vader vir Jesus na die wêreld toe gestuur het om sondaars te red (v.25, 3, 3:16-17).  As jy Hom nie ken nie moet jy jousélf kwalik neem.  Jy het geweet dat Hy goed is en dat Hy bereid was om jou te red.

 

As jy jou sonde los en in geloof na Hom toe draai, sal Hy die Vader aan jou hart bekend maak en kan jy nóú al sy Goddelike liefde ervaar en geniet (v.26, 6, Eks.34:5-7, Lk.10:21-22, Rm.5:5, Heb.2:12). As jy Hom egter verwerp sal jy na ‘n wêreld toe gaan waar dit vir ewig nag is, waar mense en duiwels mekaar haat.

 

Ek hoop nie dat enige van my lesers of hoorders na daardie plek toe sal gaan nie. Ek hoop eerder dat jy mooi sal luister en sal sê:  ‘Shhh!  Dit klink of Jesus my naam bid.  Dit is my naam wat ek daar hoor!  Ek weet wat ek sal doen:  ek sal opstaan, my sonde los en terugkeer na my Vader toe.’

 

[1] B.B. Warfield, Calvin and Augustine, p.24

[2] Alexander Smellie, Biography of R.M. McCheyne: A burning light, p.128

Wie is die 144 000 en wat maak dit saak?

144-000

Charles Spurgeon het eenkeer gepraat van die jong weduwee wat sukkel om haar vyf kinders groot te maak. ‘Sy voel ‘n veer vir ‘n ingewikkelde preek oor een of ander diep teologiese onderwerp,’ het hy gesê.  ‘Sy wil net bemoedig word en weet dat die Here haar nie verlaat het nie.’

 

Ek glo dat Spurgeon ‘n punt beet het. Hoekom moet ons ons dan enigsins steur aan wie presies die 144 000 is?  Wat maak dit saak?  Ek glo tóg dat dit saakmaak, en hoop om jou te oortuig dat Op.7:1-8 belangrik is vir dinge wat jy op een of ander tydstip in jou lewe gaan teëkom.

 

Vier engele (v.1)

In die twaalfde jaar van keiser Nero, het Cestius Gallus, die goewerneur van Sirië, met ‘n groot weermag teen Jerusalem gekom. As hy wou kon hy die stad gevat het, maar nadat hy vir ‘n kort rukkie geveg het, het hy sonder rede vir sy soldate gesê om te onttrek.  Toe dit gebeur het, het baie van die Jode die stad verlaat soos wat matrose ‘n sinkende skip verlaat.[1]

 

Nadat Gallus onttrek het, het keiser Nero vir Vespasianus opdrag gegee om Jerusalem te omsingel. Hy het in 67 n.C. daar aangekom.  Op 9 Junie van 68 n.C. het Nero selfmoord gepleeg.  Van Junie 68 tot Desember 69 het drie keisers die troon bestyg en weer tot ‘n val gekom:  Galba, Otho en Vitellius.

 

Vespasianus is teruggeroep Rome toe om keiser te word. Hy het vir Titus in Jerusalem gelos om die stad te beleër.  Titus se soldate het op sy bevele gewag, en vir ‘n wyle van die stad af onttrek.  Nóg Christene het hulle kans gesien om na Pella oorkant die Jordaan toe te vlug en dáár te skuil.[2]  Hulle het Jesus se waarskuwing in Lk.21:20-21 ernstig opgeneem:

 

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie.”

 

Op.7:1-3 wys vir ons dat dit die Here was wat hulle beskerm het. Hfst.6 eindig met ‘n vraag:  “die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (6:17).  Hfst.7:1-8 beantwoord hierdie vraag en wys dat die 144 000 wat verseël is nie deur die Here se toorn sou omkom nie.  Die 144 000 was verseël net voordat die sewende seël in 8:1-5 gebreek is.

 

Johannes het gesien hoe vier engele aan die vier uithoeke van die land [Gk. ] of aarde gestaan het (v.1).  Hulle het die vier winde (noord, oos, suid, wes) teruggehou, sodat dit nie op die land, see of teen die bome sou waai nie (v.1).

 

Volgens Sg.6:5 is die vier winde vier perde wat God se oordele oor die aarde gebring het. In 6:1-8 lees ons van vier perde wat God se oordele gebring het.  Die engele in v.1 het die stormwinde van God se oordeel teruggehou, totdat die kinders van God verseël was (v.3).

 

Toe die Here Jerusalem in 70 n.C. geoordeel het, het die Romeine meer as ‘n miljoen Jode doodgemaak. Van dié wat oorleef het, is baie na die vier windrigtings toe verstrooi (vgl. Jer.49:36, Sg.7:14).  God het 144 000 geredde Jode gespaar (v.1, 3).  Daarna het Hy sy boodskappers [Gk. aggelos] met die evangelie uitgestuur om die uitverkore heidene uit die vier windrigtings te versamel (Mt.24:31, 28:19).

 

Een engel (v.2-3)

In Johannes se tyd het ‘n meester sy slawe met ‘n warm yster gebrandmerk, soos wat boere in die ou dae hulle beeste gebrandmerk het. So het hy gewys dat die slawe aan hóm behoort en dat hulle onder sý beskerming is.[3]

 

In die verse wat volg wys Johannes hoe die Here 144 000 van sy diensknegte of slawe [v.3, Gk. doulos] as sy eiendom verseël, geheilig en afgesonder het (vgl. Hgl.8:6, Eks.28:36).  Die seël op hulle voorkoppe het God se Naam op gehad (14:1, 22:4).  Hy sou sy verseëldes of uitverkorenes deur die verdrukking bewaar het (Mt.24:22).

 

‘n Vergelyking tussen 7:4-8 en 14:1, 3 wys vir ons dat al 144 000 verseëldes behoue gebly het. Eusebius bevestig dit en sê dat daar nie een Christen tydens die verwoesting van Jerusalem gesterf het nie.  Dit was in hierdie konteks wat Jesus in Lk.21:17-19 vir sy dissipels gesê het:

 

“En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam. En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie.  Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.”

 

Soos wat Lot uit Sodom gevlug het, moes die gelowige Jode uit Jerusalem (Sodom in 11:8) gevlug het. Die Ou Testament sal ons help om hierdie verse beter te verstaan.

 

In Esg.8 het die Israeliete afgode in die tempel gedien. In Esg.9 het God ses mans (engele) gestuur om hulle dood te maak.  Maar voordat Hy dit gedoen het, het Hy vir nóg ‘n man (engel) gesê om dié mense wat nié afgode gedien het nie, op hulle voorkoppe te seël.

 

Toe hy dit klaar gedoen het, het die ander ses mans deur die tempel en die stad gegaan om dié mense dood te maak wat nie ‘n seël op hulle voorkoppe gehad het nie. In Esg.10 het God se heerlikheid die tempel verlaat.

 

Toe Johannes v.1-8 geskryf het, het hy Esg.8-10 in gedagte gehad. Hy het ‘n vyfde engel gesien wat van die ooste af gekom het waar die son opkom (v.2).  Van waar Johannes op die eiland Patmos was (1:9), was Israel in die ooste.  Die lewende God het sy engel na Israel toe gestuur om die 144 000 Jode te verseël, voordat die res van die volk onder sy oordele sou omkom (v.2-3).

 

Die engel met die seël het vir die ander engele gesê om nie die land, see of bome te beskadig (hfst.8-9, 16), totdat hy die 144 000 op hulle voorkoppe geseël het nie (v.2-3). Hulle sou nie soos die res van die Jode onder God se vreeslike oordele gesterf het nie (9:4, Eks.12:7, 13, 22-23).  Daar moes ‘n oorblyfsel gewees het (Rm.11:2-5, 9:27-28), omdat God beplan het om in die toekoms baie Jode te red (Rm.11).

 

144 000 Jode (v.4-8)

Die Jehova’s Getuies glo dat daar net 144 000 gesalfde Christene in die hemel sal wees, en dat die res op die nuwe aarde sal woon. Maar is dit wat die 144 000 in Openbaring beteken?  Wie was die 144 000?

 

Sommige geleerdes glo dat hierdie ‘n simboliese voorstelling van die ganse kerk op aarde is. Hulle verwys na Jk.1:1 wat van Christene praat as die 12 stamme wat verstrooi is.  Hulle sê ook dat hierdie nie letterlik na Joodse gelowiges kan verwys nie, omdat 10 van die 12 stamme in 722 v.C. deur die Assiriërs weggevoer is, en nooit weer na Israel toe teruggekeer het nie.

 

Volgens hulle kan die 144 000 ook nie na Jode verwys nie, omdat Levi onder die stamme getel word (in die Ou Testament tel hy nie as een van die 12 stamme nie), omdat Dan weggelaat is, en omdat Josef vir Efraim vervang.

 

Ek stem nie met hierdie siening saam nie. My redes is soos volg:

 

[1] Jakobus was die leier van die kerk in Jerusalem (Hd.21:18, Gal.1:18-19, 2:9).  Daarom glo ek dat die 12 verstrooide stamme in Jk.1:1 na geredde Jode verwys wat deur die vervolging in Jerusalem oor die aarde versprei is (Hd.8:4, 11:19).

 

[2] Nadat die Assiriërs die 10 noordelike stamme weggevoer het, lees ons nog van Aser, Manasse, Sebulon en Levi (2 Kron.30:5, 10-11, Mt.4:13, 15, Hd.4:36, Lk.2:36).

 

[3] Daar is ‘n duidelike kontras tussen die ontelbare menigte uit elke stam en taal en volk en nasie in v.9, en die 144 000 Jode in v.4-8.

 

[4] Levi word onder die stamme getel om te wys dat sommige van die priesters gered was (Hd.6:7). Johannes wys ook vir ons dat Levi nie meer God se spesiale stam van priesters is nie (Heb.7:11-14), maar dat elke gelowige ‘n priester is (5:10, 1 Pt.2:9).

 

[5] Alhoewel Efraim Josef se jongste seun was, was hy die vernaamste (Gn.48:19-21). Josef en Efraim is dus partykeer sinonieme terme (Esg.37:16, 19, Ps.78:67).

 

[6] Hoekom word Dan nie genoem nie? Rgt.18 en 1 Kon.12:28-30 wys vir ons hoe Dan hulleself oorgegee het aan afgodery.  Volgens 2 Kon.17:21-23 was dit a.g.v. hierdie afgodery wat die Here vir Israel Assirië toe gestuur het.  Volgens Dt.29:16-28 sou God dié wat hulleself só aan afgodery gegee het, heeltemal uitgewis het soos Sodom en Gomorra.

 

[7] Dit is belangrik om te weet dat Juda bo aan die lys is en dat hy voor die eersgebore Ruben genoem word, omdat die Messias uit sy nageslag gekom het (5:5, Gn.49:8-10).

 

My gevolgtrekking dan is dat die 144 000 na geredde Jode verwys wat die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. oorleef het. Volgens 14:3-4 is hulle die eerstevrug van God se verlossing; ‘n groot oes van heidene sou ná hulle gevolg het (Rm.11:16, Jk.1:1, 18, Sp.3:9-10).

 

Ek dink nie dit maak veel saak of dit ‘n letterlike getal is wat tot die naaste duisend afgerond is, en of dit ‘n simboliese getal van 122 x 103 is nie.  Die punt is dat God se kinders sy oordele oorleef het.

 

Op.7:1-8 waarborg egter nie dat elke gelowige van lyding gespaar sal word nie. Daar is nie ‘n belofte in die Bybel wat sê jy sal nie met kanker gediagnoseer word, skelms sal nie in jou huis inbreek terwyl jy slaap, almal sal van jou hou, of jou kinders sal nie voor jou doodgaan nie.

 

Die bewaring wat vir die 144 000 gegeld het, geld nie noodwendig op presies dieselfde manier vir ons nie. Omdat Op.7:1-8 meer oor geestelike beskerming gaan as oor fisiese beskerming, geld die beginsels in dié teks vir alle Christene.

 

God sal nie toelaat dat enigiets of iemand jou redding van jou af wegvat nie. Mense kan jou liggaam doodmaak, maar hulle kan nie jou siel doodmaak nie (Lk.12:4).  Hulle kan jou nie van God se liefde skei of jou uit sy hand uitruk nie (Rm.8:38-39, Jh.10:28-29).

 

God het jou met sy Gees verseël om te wys dat jy syne is (2 Kor.1:22, Ef.1:13, 4:30, 1 Jh.3:24, 4:13, 2 Tm.2:19). Jy hoef dan nie bang te wees dat die 666 op jou of jou gelowige kinders se voorkoppe sal wees nie – jy behoort aan die Here; sý seël is soos ‘n warm yster in jou hart en in jou gedagtes ingebrand.

 

Hy wat die goeie werk van verlossing in jou hart begin het, sal jou tot die einde toe bewaar (Fil.1:6). Deur sy krag en ons geloof, bewaar Hy ons vir die hemel en die hemel vir ons (1 Pt.1:4-5).  As jy regtig in Jesus glo en op Hom alleen vertrou om gered te word, hoef jy nie bang te wees dat jy van die geloof afvallig sal raak soos ‘n man wat skeef trap en van ‘n hoë krans af val nie.  God sal jou bewaar, sodat jy nie struikel nie (Jud.1, 24).  Hy sal jou van die duiwel se strikke bewaar, en jou veilig tot in die hemel bring (2 Tm.4:18).  Omdat Hy getrou is en nie sy beloftes kan breek nie, sal Hy seker maak dat jy op die laaste dag skoner is as ‘n wit hemp wat sewe keer in JIK gebleik is (1 Kor.1:8-9, 1 Ts.5:23-24).

 

Net soos Hy met die 144 000 gedoen het, sal Hy al sy kinders veilig in die hemel inbring (14:1). As jy in die hemel kom sal daar nie leë trone, harpe vol van stof is, krone met spinnerakke, of leë kamers wees nie.  Jesus het vir elkeen wat in Hom glo, asook vir dié wat nog in Hom sál glo (Jh.17:20) iets spesiaal voorberei.

 

Hier moet ons egter versigtig wees. God se bewaring beteken nie jy kan passief sit en wag vir die Here om alles te doen nie.  Jesus het 40 jaar tevore vir die gelowige Jode gesê om te vlug wanneer die Romeine Jerusalem omsingel (Lk.21:20-21).  Maar Hy was nie van plan om namens hulle te vlug nie.  En net so sal die Here vir jou die krag, genade en gewilligheid gee om tot die einde toe te volhard, maar Hy gaan dit nie vír jou doen nie – moet volhard (Fil.2:12-13).

 

Soos jou liggaam deur suurstof, kos en water bly lewe, sal God jou deur jou volharding tot die einde toe bewaar.  Waarin moet jy volhard?

 

  • Jy moet aanhou om in Jesus te glo (Kol.1:23, 1 Pt.1:5).
  • Jy moet in die Woord en gebed volhard (1 Kor.15:1-2, 2 Pt.1:19, Jud.20-21).
  • Jy moet saam met ander gelowiges volhard, en nie van die gemeentelike byeenkomste af wegbly nie (Ef.4:11-13, Heb.10:24-25, 1 Jh.2:19).
  • Jy moet volhard in bekering en heiligmaking (Heb.3:12-14, 12:14).
  • Jy moet vasbyt in beproewing. Die Here stuur dit juis om jou van die verkeerde pad af weg te draai, sodat jy op die regte pad kan bly (Heb.12:5-11, Jk.1:3).

 

Hoe kon iemand in Johannes se tyd geweet het of hy deel van die 144 000 was? En hoe kan iemand in ons tyd weet of hy met die Heilige Gees verseël is?  Daar is tog nie ‘n sigbare merk op mense se voorkoppe nie.  Hoe kan jy dan met sekerheid weet dat jy gered is en dat jy oppad is hemel toe?

 

As jy met die Heilige Gees verseël is en Hy in jou woon, sal jy die vrug van die Gees dra. Jy sal nie in hierdie lewe al volmaak wees nie, maar jou lewe sal gekenmerk wees deur ‘n liefde vir God, blydskap in Hom, vrede in jou hart, geduld met ander, vriendelikheid, goeie werke, getrouheid en lojaliteit, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal.5:22-23).

 

Iemand wie se lewe deur die volgende dinge gekenmerk word, het nie die Gees van God in hom nie, en is daarom nie gered nie:  seksuele sonde, onreinheid, afgodery, heksery, towery, bakleiery, humeurigheid, onenigheid, verdeeldheid, jaloesie, verslawing, ander sondes (Gal.5:19-21).

 

Dié wat aan die Here behoort sal van sonde af wegdraai en doen wat God in die Bybel sê, hulle sal ander gelowiges op praktiese maniere liefhê, en hulle sal glo wat die Bybel oor Jesus se Persoon en sy verlossingswerk sê (2 Tm.2:19, 1 Jh.1-5).

 

Wat van jou: wys jou lewe dat jy met die Heilige Gees verseël is?  Miskien pla dit jou nie eers dat jy ongered is nie.  Of dalk pla dit jou ‘n bietjie, maar jy is te lief vir jou sonde en wil dit nie los nie.  Moenie die Here se geduld toets of dink dat jy gou op jou sterfbed dinge met Hom kan regmaak nie.  Iemand wat die waarheid ken en opsetlik met sy sonde aanhou, sal baie streng geoordeel word.

 

Om te dink dat die Here jou sal aanneem omdat jy meer goeie werke as sonde gedoen het, is soos om te dink jy kan met ‘n zoeloe skild ‘n lorrie keer wat teen 140 km/h op jou afkom. As jy nie van jou sonde af wegdraai en in Jesus glo nie, sal God se toorn jou verpletter.

 

Dalk wíl jy gered word en met die Gees verseël word, maar jy weet nie hoe nie. Die stormwind van God se oordeel kan jou nie skade aandoen as jy deur bekering uit die riethuise van jou selfregverdige en sondige lewe uit wegvlug, en deur geloof in die staal en beton vesting van Jesus se kruisdood en opstanding wegkruip nie.  Miskien weet jy nogsteeds nie hoe om dit te doen nie.  Roep in desperaatheid die Here aan – Hy sal jou help (Rm.10:13).

 

In John Bunyan se Pilgrim’s Progress is daar ‘n karakter genaamd Little-faith.  Terwyl hy oppad was na die hemelse stad toe, het Faint-heart, Mistrust, en Guilt hom beroof.  Faint-heart en Mistrust het sy beursie en sy silwer gesteel, en Guilt het hom met ‘n swaar knuppel oor die kop geslaan.  Hulle het gevlug toe hulle Great-grace hoor aankom het.

 

Little-faith het later bygekom. Hulle het nie sy kosbare juwele gesteel nie, en hy het ook nog ‘n bietjie geld oorgehad om hom op sy reis voort te help.  Hulle het ook nie sy sertifikaat gekry wat hy nodig gehad het om in die hemelse stad in te kom nie.

 

Bunyan se punt is om vir ons te leer dat jy gered kan wees (jy het ‘n sertifikaat en juwele), selfs as jy nie sekerheid van redding het nie (jou geld en silwer is gesteel). Om seker te wees dat jy met die Gees verseël is en dat jy aan die Here behoort, is nie dieselfde as om gered te wees nie.

 

As redding die wortels is, is sekerheid van redding die blom. Jy kan die wortels sonder die blom hê, maar dit sal beter wees as jy beide het.  Maar selfs as jy nie die blom het nie, sal die Here vir jou genoeg water gee, sodat jy deur die droë maande van jou Christelike lewe behoue kan bly.

 

[1] Josephus, The Wars of the Jews, Book 2, ch.19:7, 9 & 20:1

[2] Doug van Meter, http://brackenhurstbaptist.co.za/the-144000-who-are-they/; Josephus, Ibid, Book 4 ch.9:1-2; Eusebius of Caesarea, Ecclesiastical History, Book III, ch.5

[3] G.K. Beale aangehaal in Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, p.173

Wat het Jesus van Homself gedink?

Jesus thinking

Vroeër vanjaar het ek met ‘n vrou gepraat wat vrae gehad het oor die lewe, die Here en die Bybel. Sy was verward, omdat haar pa aanhoudend deur die jare sy interpretasie van die Bybel verander het.

 

‘Hoe kan ek weet wat reg is?’ het sy gevra. Dit is glad nie ‘n slegte vraag nie.  Wie besluit dat Sandra se interpretasie van die Bybel reg is, terwyl Jaco s’n verkeerd is?  Wie besluit dat mý oortuiging oor Jesus reg is, terwyl mnr. Jehova Getuie s’n verkeerd is?

 

Die Bybel verduidelik homself en kan homself nie weerspreek nie. Ons moet dit normaal lees en verstaan, en nie ons vooropgestelde idees in die Bybel inlees nie.  Ons moet ook kyk hoe Christene dit deur die eeue verstaan het.  As nog niemand in die geskiedenis dit so verstaan het nie, of as my interpretasie skaars twee honderd jaar oud is, dan is ek waarskynlik verkeerd.

 

Kom ons kyk dan of my interpretasie van Jesus se Persoon in Jh.10:22-42 die toets slaag.

 

Die Jode se vraag (v.22-30)

Jesus was by die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem (v.22). In 164 v.C. het Judas Makkabeus die Siriërs verdryf, die tempel gereinig en die altaar herbou en ingewy, nadat Antiochus Epifanes dit in 167 v.C. ontheilig het.[1]  Die Jode het hierdie Fees ingestel om dít te herdenk.  Die Fees het op die 25ste dag van die maand Kislev (Desember) begin, en vir agt dae aangehou.

 

Omdat dit winter was en ook die reënseisoen, was Jesus nie op die oop tempelplein nie, maar het Hy in die pilaargang van Salomo geloop (v.22-23). Dit is so genoem, omdat dit van die tyd van Salomo af gestaan het.  Toe die tempel in 586 v.C. deur Nebukadnessar verwoes is, het hierdie pilaargang staande gebly.[2]  Die pilaargang  was amper soos ‘n skool se stoep:  die pilare aan die kant van die stoep het die dak opgehou, terwyl nóg ‘n ry pilare in die middel ekstra ondersteuning gebied het.

 

In hierdie pilaargang het die Jode rondom Jesus vergader (v.24, Hd.3:11, 5:12).  ‘Hoe lank gaan U ons aan ‘n lyntjie hou – is U die Messias of nie?’ het hulle gevra (v.24, vgl. Mt.26:63).  Maar as Hy vir hulle gesê het dat Hy die Messias is, sou hulle Hom nie geglo het nie, maar gesê het Hy laster en het ‘n duiwel in Hom (v.33, 20, 8:48, Lk.22:67).  Die rede hoekom Hy dit nooit direk vir hulle gesê het nie, is omdat hulle verdraaide opvattings oor die Messias gehad het; hulle het ‘n militêre en politieke Messias verwag (6:14-15).

 

Dit beteken egter nie dat Jesus onduidelik was oor die feit dat Hy die Messias is nie. Sy genesing van die blinde man en die lam man, die vermeerdering van die brood, en baie ander tekens het gewys dat Hy die Messias is (v.25, 3:2, 20:30-31, 21:25, 2:23, hfst.5-6, 9, Jes.35:5-6, 29:18, 42:7, Eks.16).  Ook sy lering en aksies het gewys dat Hy die Herder van Ps.23 is (hfst.10), die Here wat sy tempel reinig (hfst.2, Mal.3:1-3), die God van Abraham wat met Moses gepraat het (8:58, Eks.3:14), ens.  Hy het vir hulle gesê dat Hy die Vader gesien het, en dat dié Hom na die aarde toe gestuur het (6:44, 46, 7:28, 8:14, 23, 38, 42).  Maar ten spyte van al die bewyse, het hulle nogsteeds nie geglo nie (v.25, 12:37).

 

Hoekom het hulle Hom dan nie geglo as die bewyse so duidelik was nie? Dit is omdat hulle nie deel van sy kudde was nie (v.26, 8:47).  As hulle was, sou hulle die Herder se stem as die stem van hulle Messias herken het (v.26, Jes.40:11, Mt.2:6).  Hulle sou in geloof na Hom toe gekom het en agter Hom aangeloop het (v.27, 3, 6:37, Hd.13:48).  Die Herder weet wie sy skape is, en het hulle as sy eie geken nog voordat Hy die wêreld gemaak het (v.27, 3, 14, Rm.8:29, Ef.1:4-5, 2 Tm.1:9, 2:19, 1 Pt.1:2).

 

Jesus gee aan sy uitverkore skape die ewige lewe, en daarom sal hulle nooit verlore gaan nie (v.28, 3:16). Indien hulle verlore gaan, het Jesus vir hulle gejok, omdat Hy die ewige lewe belowe het maar dit nie gegee het nie (v.28, Tit.1:2, 1 Jh.2:25).  Jesus het gesê dat die diewe, rowers, wolwe, huurlinge, vreemdelinge of enigiemand anders nooit die skape uit sy sterk hand en stewige greep kon ruk nie (v.28, 6:39).

 

Ons is die Vader se geskenk aan die Seun (v.29, 17:2, 6, 9, 24). Die Vader wat ons aan die Seun gegee het, is groter en sterker as enige koning, prins, aardsengel, hemelwese, duiwel, dier op die aarde, ster, planeet, of enigiets in die skepping (v.29).  En om dié rede kan niemand ons uit die Vader se hand ruk nie (v.29, Jes.49:2, 51:16).

 

Die Vader en die Seun is een in hulle taak om ons veilig te hou (v.30). Hulle is ook een Wese, sodat iemand wat die Vader gesien het ook die Seun gesien het (v.30, 14:9, 1:18).  Deur dít te sê het Jesus vir die Jode gewys dat Hy die Messias en die Seun van God is (v.24-25, 30).  Let op dat Jesus nie gesê het Hy is die Vader nie, maar eerder dat Hy en die Vader een is (v.30).  Hy en die Vader is verskillende Persone, maar een Wese (v.30).

 

Tot ‘n sekere mate kan ons sê dat die Vader en die Seun soos ‘n tweeling is wat presies dieselfde DNA het, en tog ook unieke persone is. Ons kan ook sê dat God soos water of vuur is.  As die Vader die vlamme is, is die Seun die vuur se hitte en lig.  As die Vader die water is, is die Seun dit wat die water nat laat voel (hierdie dinge kan ons ook van die Heilige Gees sê).

 

Ek besef dat my illustrasie kortskiet, omdat die Vader en die Seun een Wese is, en dus in hierdie opsig glad soos ‘n tweeling is nie.  Die Seun is ook nie maar net ‘n kwaliteit van die Vader soos wat hitte en lig kwaliteite van vuur is, of nat ‘n kwaliteit van water nie.  Die Seun is ‘n Persoon op sy eie.  Tog hoop ek dat hierdie illustrasies ons help om iets te verstaan van wat Jesus in v.30 gesê het.

 

Omdat Jesus en die Vader een is (v.30), is die Seun nie minder God as die Vader nie.  Hy is die presiese spieëlbeeld van die Vader se Wese, en die afskynsel van sy heerlikheid (Heb.1:3).  Die volheid van wie en wat die Vader is, word in die Seun gesien (Kol.1:15, 19, 2:9).

 

Só verduidelik Jonathan Edwards dit: ‘Gestel jy kon die gedagtes wat jy in die laaste uur gedink het net so oordink:  in dieselfde volgorde, en met dieselfde emosie en intensiteit (‘n volmaakte en kristalhelder déjà vu).  Gestel dan dat jy hierdie gedagtes kan herdink, terwyl jy besig is om die oorspronklike gedagtes te dink.  As jy dít kon regkry, sou jy waarlik dubbel gewees het; twee van jou op dieselfde tyd.’[3]  Edwards reken dat die Seun van God die ewige, volmaakte en persoonlike idee is wat God van Homself het.

 

Die Jode se reaksie (v.31-42)

Twee weke gelede het ek die evangelie met ‘n Jehova’s Getuie gedeel. Dit het nie lank gevat om hom in ‘n hoek in te dryf nie.  Toe hy nie meer argumente oorgehad het nie, het hy gesê:  ‘Logically I cannot accept that Jesus is God.’  ‘Ah!’ het ek vir hom gesê.  ‘Jy verwerp dit dus op logiese gronde, en nie omdat die Bybel jou daarvan oortuig het nie.’  Net so het die Jode in v.31 e.v. nie gronde gehad om Jesus se Godheid te verwerp nie.

 

Die Jode het vir Jesus gevra of Hy die Messias is (v.24). Maar noudat Hy vir hulle gesê het dat Hy van God af kom en dat Hy en die Vader een is, wou hulle Hom gestenig het (v.31, 5:17-18, 8:58-59).  ‘Vir watse goeie werk gaan julle My stenig?’ het Hy gevra (v.32).  Kon Hy hierdie werke gedoen het as Hy nie van God af gekom het nie (3:2)?

 

Die Jode het gesê dat hulle Hom nie vir sy goeie werke wou stenig nie, maar omdat Hy gelaster het (v.33, Lv.24:16). ‘Jy is maar net ‘n mens, en nou maak jy jouself God,’ het hulle gesê (v.33).  Hulle het presies verstaan wat Hy in v.30 bedoel het, en Hy het ook dit nie ontken nie.  Hulle was egter verkeerd om te sê Hy Homself God gemaak het (v.33), omdat Hy van ewigheid af God was (1:1). Húlle het dus gelaster, omdat hulle Hom nie as die Seun van God geëer, aanbid en geprys het nie (8:49, 5:23).

 

Jesus het die Ou Testament aangehaal om hulle te antwoord (v.34). Israel se regters het God verteenwoordig, en daarom het Hy hulle in Ps.82:6 gode genoem.  Hierdie korrupte regters was egter nie gode nie, maar sou soos gewone mense gesterf het (Ps.82:1-8).  Deur Ps.82 aan te haal, het Jesus in effek gesê:

 

‘Wanneer God die korrupte leiers van Ps.82 gode noem (en julle kan nie maak asof Hy dit nié gesê het nie, omdat die Skrif nie verander kan word nie), het julle nie ‘n probleem daarmee nie. Maar wanneer die Heilige Een wat regtig van die Vader af kom sê dat Hy die Messias en die Seun van God is, het julle ‘n probleem daarmee.  Ek verstaan nie hoe julle dink nie.’ (v.35-36, Ps.16:10).

 

As Jesus se werke nie van God af was nie, kon hulle Hom verwerp het (v.37). Maar as sy werke bonatuurlik en bo-menslik was, dan was hulle verkeerd om te sê dat Hy nie die Messias en die Seun van God is nie (v.38).  As hulle sy getuienis aangaande Homself verwerp het, kon hulle nie gestry het teen dit wat voor die hand liggend was nie (v.38).  Kon hulle nie in sy werke gesien het dat die Vader in Hom was en Hy in die Vader nie (v.38, 30, 14:10-11, 20)?

 

Nadat Jesus dit gesê het wou die Jode Hom arresteer (v.39, 7:30, 44). Hulle wou dus nie regtig geweet het of Hy die Messias is nie (v.24), maar het ‘n rede soek om Hom dood te maak (v.39, 31).  Jesus het egter uit hulle hande ontsnap, omdat die bepaalde tyd van sy dood nog nie gekom het nie (v.39, 7:30, 8:20).  Hy het die Jordaanrivier gekruis en na die plek toe gegaan waar Johannes in die begin mense gedoop het.  Uit 1:28 leer ons dat die plek se naam Betanië was.  Dit is nie dieselfde Betanië as in 11:1 wat 3 km oos van Jerusalem was nie.  Die Betanië in 1:28 is eintlik Batanea, en was ‘n streek suid-wes van Galilea aan die weste kant van die Jordaanrivier.[4]

 

Omdat daar minder mense in die woestyn was as in Jerusalem, het Jesus daar gebly (v.40). ‘n Hele klomp mense het Hom gevolg en in Hom geglo (v.41-42).  Johannes het nie tekens gedoen nie, en tog het hierdie mense geweet dat sy prediking oor die Messias waar was (v.41, 5:33-35, 1:26-34, Mt.3:11-12).  Jesus se tekens het gewys dat Hy in ‘n ander klas was as Johannes (v.38, 20:30-31).

 

Daar is soveel idees oor Jesus soos wat daar hondsoorte op die aarde is. Verkeerde idees oor Jesus se Persoon en verlossingswerk is gevaarlik.  Kom ons vergeet wat die Qur’an en die media oor Jesus te sê het, en kom ons kyk wat Hy van Homself gedink het.

 

Jesus het geglo dat Hy die Messias is (v.24, 4:25-26). Hy het ook geglo dat Hy die goeie Herder is wat gekom het om sy skape te red (v.26-28, 11).  Hy het nie geglo dat die bokke skape word wanneer hulle in Hom glo nie, maar het geglo dat sekere mense skape is, en dat hulle nog in die kraal moet inkom (v.26-27, 16, Hd.18:9-10, 2 Tm.2:10).  Mense glo dus omdat hulle skape is, en is nie skape omdat hulle glo nie (v.26, Hd.13:48, 1 Ts.1:4-5).

 

Net soos wat ‘n bok nie skaap word nie, kan ‘n skaap nie in ‘n bok verander nie. Die Here se skape kan wel vir ‘n tydjie van Hom af wegdwaal, maar nie een van hulle kan hulle redding verloor nie.  Niemand kan hulle uit Jesus en die Vader se hand uit ruk nie (v.28-29).  Paulus gebruik ander woorde om dieselfde punt te maak.  In Rm.8:38-39 sê hy dat niks ons van God se liefde kan skei nie:

 

  • Jy kan nie jou redding verloor as jy doodgaan nie.
  • Jy kan dit nie in hierdie lewe verloor nie.
  • Gevalle engele (demone) kan dit nie van jou af wegvat nie.
  • Die Kommuniste, Moslems, of enige ander bose regering kan dit nie wegvat nie.
  • Niks wat in die hede gebeur kan maak dat jy jou redding verloor nie.
  • Niks wat in die toekoms gaan gebeur kan dit onklaar maak nie.
  • Niks of niemand wat bo jou in die hemel is kan dit doen nie.
  • Niemand wat in die dieptes van die see of in die hel is kan nie.
  • Niks in die hele skepping kan jou van God se ewige liefde skei nie.

 

Ek het al gehoor hoe mense sê: ‘Niemand kan jou uit Jesus en die Vader se hand uit ruk nie (v.28-29), maar jy kan jouself losruk.’  Maar volgens Jesus kan niemand jou uit sy hand uit ruk nie, omdat die Vader groter is as almal (v.29).  Sal jy dit waag om te sê:  ‘Ek kan myself losruk, omdat ek groter as die Vader is’?

 

As jy een van die Vader se skape is wat die Hy aan die Seun gegee het (v.29), sal jy na Jesus toe kom en op die laaste dag ‘n nuwe liggaam kry (6:37, 39).  As die Vader jou gekies het om soos Jesus te word, dan sal Hy jou ook roep, regverdig verklaar, en verheerlik (Rm.8:29-30).  Hy sal jou nie soos olie deur sy vingers laat glip nie (6:39, 18:9).

 

Om dit te verseker het Hy jou met die Heilige Gees verseël. Die Heilige Gees is die onfeilbare waarborg dat jy nie jou erfdeel sal verloor nie (Ef.1:13-14, 1 Pt.1:4-5).  Hy wat die goeie werk in jou begin het sal jou tot die einde toe bewaar (Fil.1:6).

 

Wie is hierdie Jesus wat sy skape bewaar? Volgens v.30 is Hy een met die Vader.  As Jesus en die Vader een is, dan is die Branhamites, T.D. Jakes, Oneness Pentecostalism, en ander ‘Jesus Only’ kerke verkeerd om te sê dat Jesus die Vader is.  Volgens hierdie mense neem God soms die vorm van die Vader aan, terwyl Hy op ander kere die Seun of die Heilige Gees is.  In hulle gedagtes kan Hy nooit al drie Persone gelyk wees nie, maar is Hy soos Jack Spratt wat ‘n pa, ‘n seun en ‘n huweliksmaat is – een persoon wat drie rolle vervul.

 

Maar volgens Jesus en die res van die Bybel, is die Vader en die Seun (en die Heilige Gees) verskillende Persone (v.30, 1:1-2, Gn.1:26-27, Ps.45:8, 110:1, Mt.3:16-17, 28:19).  Die Vader is nie die Seun nie, en andersom.  Dit was nie die Vader wat aarde toe gekom het om aan die kruis te sterf nie, maar die Seun (1:1, 14).

 

Tog moet ons nie die fout maak om te dink dat daar drie Gode is nie. Die Vader en die Seun (en die Heilige Gees) is een Wese (v.30, Dt.6:4, Jk.2:19).  In Mt.28:19 leer ons dat die Vader en die Seun (en die Heilige Gees) een Naam het.  In die jaar 325 n.C. het ‘n groep kerkleiers in Nicea die Bybelse lering oor Jesus soos volg opgesom:  ‘[He is] from the essence of the Father, God from God, light from light, true God from true God, begotten, not created, of the same essence as the Father’.[5]

 

Jesus het nie gesê dat Hy en die Vader een was nie, maar dat hulle een is (v.30).  Alhoewel Hy vir tyd en wyl sy Goddelike bestaan in die hemel vir die aarde verruil (Fil.2:6), het Hy nie opgehou om God te wees nie (8:58).  Toe Hy mens geword het, het Hy die onafhanklike gebruik van sy Goddelike kwaliteite prysgegee om Hom aan sy Vader te onderwerp (5:19, 30).  In hierdie opsig het Hy Homself leeg gemaak (Fil.2:7).

 

Ons kan dan nie saam met die Jehova’s Getuies sê dat Jesus ‘n god is, dat Hy geskep is, dat Hy die aardsengel Michael is, dat Hy die Seun van God is maar nie God nie, of dat Hy minder as die Vader is nie.  Toe Jesus gesê het dat Hy die Seun van God is, het Hy duidelik bedoel dat Hy een is met die Vader, en dat Hy self God is.  Dit is hoe die Jode dit verstaan het, en dit is hoe Hy dit bedoel het (v.30, 33, 36).

 

Hierdie is die Jesus in wie jy moet glo. Hy gaan Homself nie by jou of my voorkeure aanpas nie.  Aanvaar Hom soos Hy is:  die Messias en die Seun van God wat een is met die Vader en ook gelyk met Hom.  Hy is die ware God wat sy skape sal red en hulle veilig in sy hand sal vashou.

 

My suster het skerp verskil met ‘n Jehova’s Getuie wat saam met haar werk. Die vrou het vir haar gesê:  ‘Gaan lees ‘n bietjie Johannes, en jy sal sien dat Jesus nie God is nie.’  Maar Johannes se punt is juis om te wys dat Jesus ware God is, en dat Hy een is met die Vader.  Die heel eerste vers in die boek sê dit.

 

[1] 1 Makk.4:36-59, 2 Makk.1:9, 18, 10:1-8, D.A. Carson, The Gospel of John, p.391

[2] Flavius Josephus, B. J. 5:5, section 1; Ant.20:9, section 7

[3] Vry vertaal uit Jonathan Edwards, An Essay on the Trinity, p.102 n.8 aangehaal in John Piper, The Pleasures of God, p.42 n.22

[4] Carson, Ibid, pp.146-147

[5] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.204

’n Trooswoord vir twyfelaars

Doubt

Verlede jaar het ek ‘n paar keer saam met drie mans in die strate gepreek. Die een man het ‘n baie sterk wettiese agtergrond.  Dit het hom uiteindelik ingehaal, sodat hy begin dink het hy het die onvergeeflike sonde gepleeg.  Hy het in ‘n inrigting beland.  Dit is vir Christene soos hý wat 1 Jh.5:13-21 in die Bybel is.  Almal van ons twyfel van tyd tot tyd.  Volgens Johannes kan Christene ‘n sterk sekerheid hê, en is dit heeltemal onnodig dat hulle twyfel.

 

Sekerheid van redding (v.13)

Spurgeon vertel van ‘n Christen wat oor sy redding getwyfel het. ‘Ek is ‘n groot sondaar en kan nie gered word nie,’ het hy gesê.  Spurgeon het 1 Jh.1:7 aangehaal en gesê dat die bloed van Jesus ons van alle sonde reinig.  Die man het gesê:  ‘Jy moet die konteks onthou.  Die teks sê dat sy bloed ons reinig as ons in die lig wandel.  Ek wandel nie in die lig nie, en daarom geld die teks nie vir my nie.’  Spurgeon het gesê:  ‘Christus sal volkome red dié wat deur Hom na God toe kom.’  Die man het nogsteeds nie hoop gehad nie.

 

‘God vra net dat jy in Hom glo – al is dit ook ‘n flou geloof. As jy net met jou hand ontvang is dit genoeg.’  ‘Ek het nie die hand van geloof om te ontvang nie,’ het die man gesê.  ‘Maar as jy die mond van begeerte het, kan jy darem met jou lippe vra,’ het Spurgeon gesê.  ‘Nee, ek kan nie bid nie – ek het nie die lippe van begeerte nie.’

 

Spurgeon het by hom gepleit: ‘Al wat ek soek is ‘n leemte, sodat God sy genade daar kan insit.’  ‘Ah, jy het my!’ het die man gesê.  ‘Ek het ‘n leemte; ‘n hunkerende holheid.  As daar ooit ‘n leë sondaar in die wêreld was is dit ek.’  ‘Wel, daar is ‘n vol Christus vir leë sondaars,’ het Spurgeon gesê.[1]  Christene hoef nie soos hierdie man oor hulle redding te twyfel nie.

 

Johannes het sy Evangelie vir ongelowiges geskryf, sodat hulle in Jesus kan glo en gered kan word (Jh.20:30-31). 1 Johannes is vir gelowiges geskryf, sodat hulle verseker kan weet dat hulle die ewige lewe het (v.13).

 

Glo dan v.13. As jy dit ontken, maak jy die lewe vir jouself moeilik.  Sommige mense dink dis arrogant om te sê jy is heeltemal seker van jou redding.  Hulle dink dit is ‘n teken van respek vir God om te twyfel.  ‘Hy sal besluit of ek hemel toe gaan of nie,’ sê hulle.  Hulle lewe in vrees vir die dag van hulle dood.  Hulle hoop maar hulle het goed genoeg gelewe.  Maar as hulle op Jesus vertrou het en nie op hulle werke nie, sou hulle sekerheid hê.  Natuurlik kan jy nie sommer so by die Koning se troonkamer ingedrentel kom nie.  Maar as die Koning se geliefde en volmaakte Seun die Advokaat is wat in jou plek staan, sal Hy jou in der ewigheid nie wegwys nie.  Om oor jou redding te twyfel is om te wonder of God sy Seun se kruisdood in jou plek sal aanvaar.  Om in God se Seun en sy beloftes te glo is nie arrogant nie; om dit te betwyfel is.  God se belofte is so seker soos Hy self:  ‘Hy wat die Seun het, het die lewe’ (v.12).

 

Sekerheid in gebed (v.14-17)

Barend is ‘n skatryk sakeman. Hy verdien in ‘n jaar wat baie mense nie in ‘n leeftyd kry nie.  Hy is baie vrygewig en sê vir sy vier aangenome kinders:  ‘As julle ooit iets nodig het, vra net – ek help graag.’  Na ‘n paar jaar neem hy en sy vrou ‘n tienerdogter aan.  Haar naam is Karen.  Wat Barend vir die ander vier gesê het, sê hy vir haar:  ‘As jy ooit iets nodig het, vra net – ek help graag.’

 

Op ‘n dag het Karen ‘n rok nodig vir haar matriekafskeid. Sy is te bang om te vra en wonder of hy vir haar die geld sal gee.  Haar suster sien dat sy bang is, en vra namens haar.  Barend dink nie twee keer nie, en gee dadelik vir Karen geld om die rok te koop.  Karen kan dit nie glo nie.  Die ander kinders is glad nie verbaas nie.  ‘Hy het mos gesê ons kan enige tyd vir hulp vra – hy help graag.’  Die ander kinders het geglo hy wil en kan help, en daarom was hulle nie bang om te vra nie.  Karen het getwyfel, en het daarom ook nie gevra nie.  Na dié episode het sy egter meer vrymoedigheid gehad.

 

Die Here is so. Hy belowe om te gee as ons vra.  Ons moet Hom glo, sodat ons vrymoedigheid kan hê in gebed.  Iemand wat seker is van sy redding (v.13), kan ook seker wees dat God sy gebede verhoor (v.14, 3:21-22).  Sal God vir jou die groter ding gee, en nie ook die kleiner een nie (Rm.8:32)?  Wat ons ookal volgens sy wil vra, ontvang ons (v.14, Mt.6:10, 26:39).  En wat is sy wil?  Dat ons nie in sonde sal lewe nie, maar sy Woord gehoorsaam (2:17, 3:22, Mt.7:21, 24).  Dán kan jy van jou knieë af opstaan en met oortuiging weet dat God jou sal antwoord (v.15, Jk.1:5-8, Mk.11:24, Mt.21:22).

 

In v.16 gee Johannes ‘n voorbeeld van wat hy bedoel. As jy sien dat jou broer ‘n sonde doen wat nie tot die dood lei nie en vir hom bid, sal God jou gebed verhoor en hom laat lewe.  Wat beteken dit?  Praat Johannes hier van ‘n gelowige wat siek geword het as gevolg van sy sonde?  Volgens v.16a is sy siekte nie terminaal nie (dit lei nie tot die dood nie), en daarom sal hy gesond word as jy vir hom bid (Jk.5:14-20).  Soms gebeur dit egter dat God se geduld opraak, en Hy iemand met die dood tref (v.16b, 1 Kor.11:30, Hd.5:1-11).  In so ‘n geval help dit nie jy bid vir sy genesing nie (v.16).  ‘n Persoon wat gesond word se sonde was nie tot die dood nie.  Maar as hy sieker word en sterf, is dit mos voor die hand liggend dat sy sonde tot die dood is.

 

Ander dink dat Johannes eerder van ‘n geestelike dood praat. In daardie geval verwys ‘broer’ nie na ‘n ander Christen nie, maar na jou medemens.  As hy nie die onvergeeflike sonde gepleeg het nie en jy vir hom bid, sal God hom uit die graf van sy sonde laat opstaan (v.16, Ef.2:1, 5).  M.a.w. God sal hom red.  Ander ongelowiges weer, is soos die vals leraars:  hulle ken die waarheid, maar is soos ‘n skoon vark wat weer in die modder van hulle sonde gaan rol (2 Pt.2:20-22).  Hulle het hulleself teen die lig van die evangelie verset en na hulle sonde toe teruggedraai (2:19).  Hulle het die onvergeeflike sonde gepleeg (Mt.12:31-32).  Dit help nie jy bid vir hulle nie, want hulle sal hulleself nie bekeer nie (v.16, Hb.6:4-6, Jer.7:16).  As ‘n vals leraar van die waarheid af weggedraai het, mors jy jou tyd om vir sy bekering te bid.

 

Ek is nie seker watter een van die twee interpretasies reg is nie, maar beide is erg. Alle ongeregtigheid is sonde, en daarom kan ons dit nie ligtelik opneem nie (v.17).  Tog is dit so dat daar sonde is wat nie tot die dood lei nie (v.17).

 

Bid met vrymoedigheid (v.14). Om dít te doen moet jy eers seker maak jy is gered.  Hoe kan jy met vrymoedigheid bid as jy twyfel dat God jou Vader is?  Om vrymoedig te bid moet jy ook weet wat God se wil is.  As jy oor sy wil wonder, kan jy nie met sekerheid bid nie.  Bid jy volgens God se wil as jy vra om die LOTTO te wen?  “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jk.4:3).  Bid jy volgens God se wil as jy vra dat Hy vir jou geld voorsien om jou kind se handboeke te koop?  “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.” (Fil.4:19).  As God ‘n belofte in die Skrif gegee het, kan jy dit bid en verseker weet dit is sy wil.  Daar is nie ‘n belofte dat jou ma gesond gaan word as jy vir haar bid nie.  Tog is daar ‘n belofte dat God almagtig, goed en wys is, en daarom is dit nie verkeerd om te bid dat sy gesond word nie.  Maar in so ‘n geval moet jy soos Jesus in Getsemane bid:  ‘Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.’

 

Ek was onlangs by ‘n predikante byeenkoms waar ‘n charismatiese pastoor in sy gebed gesê het: ‘Lord, we know that we will have this, because we have spoken it into the air.’  Om te dink gebed is ‘n tower formule waarmee jy die Here kan manupileer is arrogant.  Maar om vrymoedig te bid en Hom aan sy beloftes te herinner is Bybels (v.14, Jes.62:6-7).  Hou dan op met twyfel.  “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hb.4:16).  Wat het jy nodig?  Die Here weet dit, maar wil hê jy moet dit vir Hom sê (Mt.6:8).  Om te twyfel of angstig te wees help jou nie, en maak net die situasie erger.  Moenie self jou probleme wil oplos nie.  Bring dit vir die Here.

 

‘n Christen wat twyfel sê in effek dat God onbetroubaar is. Dalk sê hy dit nie met sy lippe nie, maar sy biddeloosheid skreeu kliphard:  ‘God kán ons nie help nie, en wíl ook nie!’

 

Sekerheid van beskerming (v.18-19)

In Suid-Afrika het ons honde, alarms, elektriese heinings, diefwering, sekuriteitshekke, palisades, en gewere om ons te beskerm. Tog weet ons dat misdadigers verby al hierdie dinge kan kom.  Selfs mét al hierdie dinge kan jy nie seker wees jy is veilig nie.  Met God is dit anders.  Sy belofte om jou teen sonde en die duiwel te beskerm is nie leeg nie (v.18-19).

 

Iemand wat uit God gebore is, hou nie aan met sondig nie (v.18, 3:9, Gk.). ‘n Ware Christen kán sondig (v.18), maar nie tot die dood nie (v.17).  Die ewige Seun wat uit God gebore is beskerm ons, sodat die duiwel onsuksesvol is in sy poging om ons te versoek om op hiérdie manier te sondig (v.18, Jh.17:12, Jud.1, 24, Ps.105:15).  Satan kan ons nie só van God af wegrokkel, dat ons ons rug op Hom draai en finaal wegval nie (v.18, Job 1:11, 21-22, 2:3, 5, 9-10, Jh.10:28, 17:12-15, Rm.8:38-39).

 

Ons lê nie saam met die wêreld soos ‘n baba in die duiwel se arms en slaap nie; ons loop nie bedwelmd agter hom aan nie; ons is nie, soos ‘n haas, vas in die duiwel se strik nie (v.19, Ef.2:2). Ons kom van God af (v.19).  Die wêreld kom in verskillende groottes, kleure en geure (Islam, ateïsme, Hindoeïsme, ens.), maar is almal in die duiwel se fabriek gemaak.  As jy nie aan Jesus behoort nie, behoort jy aan die duiwel (v.19).  Hier is daar geen grys area nie.

 

Glo dat die Here jou teen sonde en die duiwel sal beskerm. As jy God se beskerming betwyfel, sal Hy jou nogsteeds beskerm, maar jy sal onnodig bang wees.  Glo eerder dat Hy soewerein is oor die duiwel, en vir hom kan sê wat hy mág en nié mag doen nie.  Die duiwel kan nie doen wat hy wil nie, maar is soos ‘n marionet in God se hand.  Dit is wat Martin Luther bedoel het toe hy gesê het:  ‘The devil is God’s devil.’  Toe Jesus op aarde was het Hy vir Satan gesê:  ‘Gaan weg!’ (Mt.4:10).  Hy het die duiwels verbied om te praat (Mk.1:34).  Die duiwels moes toestemming vra om in die varke in te gaan (Lk.8:32).  Hy het die duiwel en al sy magte oorwin toe Hy aan die kruis gesterf het (3:8, Kol.2:15).

 

Moet dan nie bang wees nie, maar glo dat God selfs jou vyande sal gebruik om jou te bevoordeel (Gn.50:20, Hd.4:27-28). Spurgeon was uiteindelik dankbaar dat die duiwel mense aangehits het om hom te kritiseer, want daardeur het honderde mense uit nuuskierigheid na hom kom luister en tot bekering gekom.[2]  Wees verseker dat God jou teen jou vyande kán en sál beskerm (v.18-19).

 

Sekerheid van kennis (v.20-21)

My vriend het eenkeer saam met ‘n bekende ds. gaan koffie drink. Dié man het altyd die waarheid geglo, maar het skielik begin om dit te betwyfel.  Vir hom was die Bybel nie meer ‘n vaste rots om op te bou nie, maar olie wat tussen jou vingers deur glip.  Postmodernisme is die groot woord.  Volgens hulle bestaan daar nie iets soos absolute waarheid nie.  Wat vir jou waar is, is nie noodwendig vir my waar nie.

 

Vandag is daar heelwat kerke wat dit glo. Vir hulle is Jesus en die Bybel se woorde so goed soos Ghandi en Mandela s’n:  elkeen het ‘n stukkie van die waarheid beet.  Ek sukkel egter om te verstaan hoe evolusie en die Bybel waar kan wees; Jesus en die Qur’an; die evangelie en redding deur goeie werke.  Volgens Johannes is daar iets soos absolute waarheid, en kan ons dit net in Jesus vind.

 

Die Seun van God het aarde toe gekom om ons oë en verstand oop te maak, en vir ons die kennis van die ware God te gee (v.20, Lk.24:45, Jh.1:18, 14:6-9, 2 Kor.4:4). Hierdie kennis is nie die mistiese kennis van die vals leraars nie, maar ‘n ware en reddende kennis.  Ons ken Hom nie net nie, maar deur geloof is ons in die ware God en in sy Seun Jesus Christus (v.20).

 

Die vals leraars het Jesus se Godheid ontken, maar volgens Johannes het hulle nie ‘n voet om op te staan nie, omdat Hy die ware God en Ewige Lewe is (v.20, 1:1-2). Die ewige lewe kom dus nie deur die vals leraars se sogenaamde verhewe kennis nie.  Dit kom deur ‘n Persoon:  Jesus Christus (v.20).  Johannes se lesers moenie in enige ander Jesus glo nie (2 Kor.11:4).  ‘n Jesus wat nie die Seun van God, die Christus, en die ware God is nie, is ‘n vals Jesus.  En om ‘n vals Jesus te aanbid is afgodery (v.21).  Johannes wil hê ons moet die ware God aanbid (v.20).

 

Hou op twyfel, en glo dat die Jesus van die Bybel die ware God is, en dat Hy die standaard is waaraan alle waarheid gemeet moet word (v.20, Jh.14:6). As jy nie seker is hiérvan nie, sal jy oor níks seker wees nie.  Watter god is daar wat jou lewe en gedagtes so akkuraat kan beskryf soos Jesus?  As Hy nie die ware God is nie, hoe is dit moontlik dat meer as 400 profesieë noukeurig in Hom vervul is?  Hoekom word duisende Christene se gebede so presies beantwoord as Hy nie die ware God is nie?  En as Jesus nie die ware God is nie, hoe is dit moontlik dat ‘n misdadiger wat die evangelie hoor en glo, binne 24 uur ‘n ander mens is en vir die res van sy lewe so bly?  Waar is die filosofie, sisteem, of godsdiens wat vir jou ‘n skoon gewete kan gee?  Deur sy kruisdood het Jesus ons skuld weggevat, en daarom kan Hy ook van die skuldgevoelens ontslae raak.  Hy is die ware God.  Moet jou nie steur aan liberale teoloë, ateïste, Moslems, en ander mense wat alewig die waarheid van die Bybel betwyfel nie.  Druk ook jou ore toe vir mense wat ‘n Jesus van hulle eie verbeelding verkondig; ‘n Jesus wat nie in die Bybel voorkom nie.

 

‘n Christen wat twyfel, is soos ‘n Rottweiler wat as baba-hondjie mishandel is. As ‘n skelm inbreek kruip hy onder die tafel in.  Hy weet nie hy kan die skelm byt nie.  In Christus is alles joune.  Hy het jou gered, beantwoord jou gebede, en beskerm jou.  Hy is die ware God – jóú God.  Moenie met sakke vol van diamante en goue muntstukke by die robot staan en bedel nie.

[1] Autobiography: vol.1, pp.380-381

[2] Ibid, pp.329, 342, 394-395

Wat maak Christene anders?

God is love

As jy ‘n huis bou en nie sement tussen die stene sit nie, sal ‘n stoute en woelige Boerboel die mure kan omspring. Die sement is dit wat alles aanmekaar hou, sodat dit nie soos ‘n huis van kaarte inmekaar tuimel nie.  Net so is liefde die sement wat elke goeie werk, karakter eienskap, en daad van gehoorsaamheid bymekaar hou.  Paulus sê dat liefde alles in ‘n volmaakte eenheid saambind (Kolossense 3:14).  Sonder liefde beteken die grootste dade van opoffering niks nie (1 Korintiërs 13:3).  Dít is dan wat Christene anders maak:  liefde.  Johannes wys dit vir ons in 1 Johannes 4:7-21.

 

God se liefde (v.7-12)

Elisabet en Magda is in graad 3. Elisabet se ouers is lief vir haar, sorg vir haar, is daar as sy hardloop, kom na haar prysuitdeling toe, help haar met haar huiswerk, vat haar jeug en Sondagskool toe, ry saam met haar fiets, koop vir haar roomys, swem saam met haar in die see, lees vir haar stories voor sy gaan slaap, ens.  Magda se pa is afwesig.  Haar ma sê sy haat haar en wou haar nie hê nie.  Haar ma stel nie belang in haar sport nie, los haar om self met haar skoolwerk te sukkel, laat haar heel Saterdag voor die TV sit, het mans wat by haar oorbly, sê vir Magda om drank aan te dra by partytjies, laat haar tot 19:00 by die naskool wag, ens.  ‘n Mens kan in die meisies se optrede sien wie uit ‘n goeie ouerhuis kom en wie nie.  Elisabet is vrolik, sprankelend, werk netjies, is gesond, en het dissipline.  Magda se werk is agter, haar kop hang, sy het kwaad in haar, sy baklei, en sy luister nie vir die juffrou nie.  In die geestelike realm kan jy sien wie ‘n goeie en liefdevolle hemelse Vader het, en wie die duiwel as sy vader het.  ‘n Gelowige weet God is liefde en het Hom lief.  Hierdie liefde vul sy hart en spoel oor in ‘n liefde vir ander.

 

Ons moet vals lering uitken (v.1-6). Maar dit help nie jy ken dit uit, en het nie liefde in jou hart nie (v.7, Openbaring 2:2, 4).  Iemand wat God ken en uit Hom gebore is, kan nie anders as om die broers lief te hê nie, want liefde kom van God af en Hy is liefde (v.7-8).  God is liefde in sy wese en die Fontein waaruit al die strome van liefde vloei (v.8, Johannes 17:24, 3:35, Romeine 15:30).  Iemand wat dan nie die broers liefhet nie, ken Hom nie (v.8).

 

God het sy liefde vir ons gewys toe Hy sy enigste Seun aarde toe gestuur het, sodat ons nie in die hel sou sterf nie, maar vir ewig kan lewe (v.9). God se liefde is duidelik in Jesus wat sy vyande se verdiende straf op Homself geneem het aan die kruis (v.10, 2:2, Romeine 3:25).  Liefde vir die broers ontspring nie uit onsself nie, maar stroom in ‘n rivier uit Jesus se kruiswonde (v.10, 19).  Die kruis moet ons harte verander sodat ons die broers sal liefhê (v.7).  Die kruis is ook die bloudruk en voorbeeld van ons liefde vir die broers (v.7, 3:16).

 

God het ons gered, vergewe, en verwelkom (v.11). Hoe kan ons mekaar dan nié liefhê nie (Matteus 18:21-35)?  Al kan ons Hom nie sien nie (v.12, 1 Timoteus 6:16), sal mense Hom en sy liefde in ons sien as ons mekaar liefhet (v.12, Johannes 13:34-35).

 

Verstaan God se liefde vir jou. God het jou nie lief vir wie jy is, maar ten spyte daarvan (Romeine 5:8).  Hy is lief vir die wêreld wat Hom haat en verwerp (Matteus 5:45, Markus 10:21, Lukas 6:35, Johannes 3:16).  As jy dink jy is lieflik en Hy kon jou nie weerstaan nie, sal jy jouself liefhê eerder as vir Hom.  As jy in sonde leef en dink:  ‘Hy is lief vir my net soos ek is,’ sal jy versoek wees om te bly soos jy is.

 

Pasop dat jy nie in die ander sloot val en sy liefde betwyfel nie. Dit gebeur veral as jy ly, onseker is oor jou redding, in sonde val, of alleen is in jou oudag.  Maar in hierdie tye is God se liefde juis die anker wat moet keer dat jy sink.  Hy het jou liefgehad met ‘n ewige liefde (Jeremia 31:3).  Uit liefde het Hy jou voor die grondlegging van die wêreld gekies om sy eiendom te wees (Efesiërs 1:4-5).  Dit is onnodig dat jy twyfel.

 

Charles Spurgeon vertel van ‘n vrou wat so getwyfel het.[1]  Sy het gesê dat sy geen hoop het nie, en dat sy skynheilig is.  Die gesprek het so geklink:

 

Spurgeon: Moet dan asseblief nie meer kerk toe kom nie, want ons soek nie skynheiliges daar nie.  Hoekom kom jy?

 

Vrou: Ek kan nie wegbly nie.  Ek is lief vir God se kinders, lief vir sy huis, en wil Hom graag aanbid.

 

Spurgeon: Wel, jy is ‘n snaakse tipe skynheilige; ‘n vreemde soort ongelowige.

 

Vrou: Jy kan sê wat jy wil, ek het geen hoop om gered te word nie.

 

Spurgeon: Wel, volgende Sondag sal ek jou vra om in die kansel te staan, sodat jy vir almal kan sê Jesus Christus is ‘n leuenaar en jy kan Hom nie vertrou nie.

 

Vrou: O!  My hart sal in twee skeur voordat ek so iets sê.  Hy kan nie jok nie.  Al sy woorde is waar.

 

Spurgeon: Hoekom glo jy dit dan nie?

 

Vrou: Ek glo dit, maar glo nie dat dit vir my is nie.

 

Spurgeon: Het jy geen hoop nie?

 

Vrou: Nee.

 

Spurgeon: Hier is vir jou £5.  Dis al wat ek het, maar ek sal dit vir jou gee as jy jou hoop aan my verkoop.

 

Vrou: Ek sal dit nie vir ‘n duisend wêrelde verkoop nie!

 

Hou op twyfel Christen. God is lief vir jou en niks kan jou van sy liefde skei nie – ook nie ouderdom of siekte nie (Romeine 8:35, 37-39).  Bid en peins oor die kruis, sodat jy sy onmeetbare liefde kan ken (Efesiërs 3:18-19).  R.A. Torrey was eenkeer so oorweldig deur God se liefde, sodat hy vir ‘n lang tyd gehuil het.  Op die einde het hy gevra dat God dit nie verder aan hom moes openbaar nie, omdat hy dit nie kon dra nie.[2]  Op 15 Maart 2014 het ek ‘n soortgelyke ervaring gehad.  Dit was onvergeetlik.  God se liefde is nie soos ‘n man wat sy vrou los of ‘n ma wat haar kind weggooi nie (Jesaja 49:14-16).  Sy liefde duur vir ewig (Psalm 136).

 

Hoekom moet jy sy liefde vir jou verstaan? Want eers dan kan jy liefhê (v.7, 19).  As jy sy liefde verstaan sal jy ook uitsien na die hemel, ‘n wêreld van liefde.  Hoe sal ‘n wêreld lyk waarin jy God en jou naaste altyd volmaak liefhet?

 

God se Gees (v.13-16)

‘n Bejaarde predikant het vir ons vertel hoe hy in sy jongdae by ‘n slaghuis gewerk het, en in hierdie tyd tot bekering gekom het. Op ‘n dag het hy vir sy kollegas gesê:  ‘Julle sê daar is nie ‘n Christus nie, en God bestaan nie.  Maar sê vir my: Wie het my verander?’  Hulle het hulle koppe laat sak en nie ‘n woord gesê nie.  Dis die Heilige Gees wat maak dat ons Jesus se liefde ervaar, verstaan, en daarop reageer sodat ons mekaar liefhet (Romeine 5:5, Galasiërs 5:22).  Dit is basies Johannes se punt in v.13-16.

 

Hoe kan jy verseker wees God woon in jou en jy in Hom (v.12-13)? Die Gees oortuig jou dit is so (v.13).  Maar hoe weet jy dit is God se Gees en nie ‘n vals gees nie?  ‘n Vals gees sal jou nie help om die broers lief te hê nie (v.12).  Soos die Gees getuig dat jy gered is, getuig die apostels ook in die Skrif daarvan (v.14, 1:1, Johannes 15:26-27).  Jesus is die Verlosser van die Jode, maar ook van die wêreld (v.14, Johannes 4:42).  As jy bely dat Hy die Seun van God is, is sy Gees in jou en behoort jy aan God (v.15).  Deur sy kruisdood en die Heilige Gees, kan jy God se liefde ken en glo dit is vir jou (v.16).  God is liefde (v.16).  As jy liefhet wys dit jy is in God en sy Gees in jou (v.16).

 

Die Heilige Gees is die waarborg en seël dat jy in die hemel sal ingaan (Efesiërs 1:13-14, 4:30). Sonder die Heilige Gees in jou, is jy voor die hemelpoorte soos ‘n seuntjie wat hoop om met ‘n ou fliek kaartjie die wêreldbeker op Loftus te kyk.  Maak dan seker Hy is in jou.  Jy kan Hom nie kry deur die broers lief te hê nie, maar as Hy in jou is sal jy die broers liefhê.  Hoe kan jy Hom kry?  Hy sal net in jou woon as jy die strydbyl van sonde neerlê, as jy die wit vlag waai en erken Jesus is die Seun van God, die Here en Verlosser van sondaars (v.15).  ’n Nuwe en opregte liefde vir God en ander sal wys dat die Gees in jou is.  Bid vir meer van die Gees, gehoorsaam Hom volgens die Skrif (Lukas 11:13, Efesiërs 5:18, Galasiërs 5:16).  Die mense rondom jou sal weet dat jy nie net jou sokkies opgetrek het nie, maar dat iets in jou gebeur het, dat iets binne-in jou anders is.  Sendelinge soos Robert Moffat en John Paton sal vir jou sê dat daar ’n wêreldse verskil is tussen ‘n inboorling wat die Gees in sy hart het, en die onbeskaafde barbaar wat nie die Naam van Jesus ken nie.

 

God se wet (v.17-21)

Wat sê dit van ‘n land en haar regering se gesondheid as dwelms, aborsie, poligamie, prostitusie, en pornografie wettig is; as tugtelose en rebelse kinders regte het wat deur die grondwet beskerm word? Wat sê dit van ‘n volk en haar Koning as daar ‘n wet van ware en opregte liefde in hulle harte gebrand is; as hierdie wet nie net ‘n eksterne wet is wat afgedwing word nie, maar ‘n diep geestelike drang in hulle om te doen wat die Koning wil hê; ‘n wet wat in hulle harte gegraveer is sodat hulle gesag respekteer, asook ander mense se lewens, reinheid, eiendom, en reputasie?

 

Die Skrif sê: “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê:  Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk… En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” (Deuteronomium 4:6, 8).

 

Geen volk of godsdiens het sulke wyse en wonderlike wette soos God s’n nie. Jesus se wet van liefde maak dat ons anders is as die res (v.17-21).

 

As God in jou bly en jy in Hom (v.16), groei sy volmaakte liefde in jou soos ‘n dogtertjie wat in ‘n beeldskone vrou verander (v.17, 12, 2:5). Sy liefde wat deur jou na ander toe vloei, wys sy Gees woon in jou en jy is waarlik gered.  Net soos wat Jesus op aarde God se Seun was, is ons dit ook (v.17, 3:1).  Daarom hoef jy nie die oordeelsdag te vrees of te dink jy gaan dit nie maak nie (v.17-18, vgl. 2:28, 3:21).  Die liefde in jou hart bevestig jy is gered.  Hierdie liefde gooi vrees vir die oordeelsdag soos ‘n inbreker by die deur uit (v.18).

 

Maar iemand wat haat moet straf verwag en het rede om te vrees (v.18). As jy straf vrees pla jou gewete jou oor jou liefdelose, bitter, onvergewensgesinde hart en denke (v.18).  Maar as jy God en ander liefhet, is vrees vir die oordeelsdag onnodig (v.18, Romeine 8:15, 2 Timoteus 1:7).  Liefde vir God en die broers wys dat Hy en sy liefde in jou is (v.19-20).  As jy God se sigbare beeld in jou broer haat, kan jy onmoontlik die onsigbare God liefhê – al jy ook jy het Hom lief (v.20, 12, 3:17, Matteus 25:34-46).  Jesus se gebod was dat ons mekaar moet liefhê (v.21).  Wie Hom liefhet sal hierdie gebod uitvoer (v.21, 14:15).

 

Gehoorsaam die groot gebod om God en jou naaste lief te hê (Matteus 22:37-40). Totdat die Gees nie God se liefde op jou hart gestempel het en jy by hierdie fees aansit nie, sal jy nooit vir God of jou naaste lief wees nie (v.19).  M.a.w. om die liefdesgebod uit te voer moet jy gered wees.  ‘n Ongeredde persoon kan ook sy ‘naaste’ liefhê, maar vir hom is sy naaste slegs dié wat hom terug liefhet.  Die gelowige is anders en is lief vir dié wat die lewe vir hom moeilik maak, hom misbruik, en sosiaal in ‘n ander klas is (Lukas 6:27-36, 10:25-37).  Hy weet ook dat dit maklik is om jou skoonma lief te hê as sy in die Kaap of in Kanada bly, en jy haar net elke ses maande sien.  ‘n Ware gelowige is lief vir dié wat elke dag onder sy neus is (v.20-21).  Hy doen dit omdat hy God liefhet (v.19-20), en nie omdat hy die hel vrees nie (v.17-18).

 

Hy besef dat dit nie help hy hou die kleiner gebooie, terwyl hy die grootste een nalaat nie. Hy gee nie geld, kom kerk toe, lees die Bybel, bid, ken vals lering uit, ly geduldig, en volhard, terwyl die gebod om lief te hê op die rak lê en stof vergader nie (Matteus 23:23, Hosea 6:6, Openbaring 2:2-5).  Hy sorg dat alles wat hy doen in liefde geskied, en dat die grootste gebod die kleineres dryf (1 Korintiërs 16:14).  Net ‘n hart van klip kan God se diep liefde verstaan en onaangeraak bly (v.19).

 

‘n Sekere Frederick Lehman (1868-1953) het ‘n bekende gedig oor God se liefde vertaal. Die gedig se laaste vers lui:

 

Could we with ink the ocean fill,

And were the skies of parchment made,

Were every stalk on earth a quill,

And every man a scribe by trade,

To write the love of God above,

Would drain the ocean dry.

Nor could the scroll contain the whole,

Though stretched from sky to sky.

 

Iemand wat hierdie waarheid in sy hart verstaan het, se lewe kan nie dieselfde bly nie. Dit móét verander, nie waar nie?

[1] Autobiography: vol.1, p.202 (vry vertaal)

[2] D.A. Carson, A Call to Spiritual Reformation, pp.193-194

Wie is gered?

Assurance

Het jy al ooit die aardige ondervinding gehad waarin jy ‘n persoon ontmoet, en nie weet dat hy of sy een van ‘n tweeling is nie? Op ‘n dag sien jy die persoon in die winkel en groet hom of haar vriendelik, net om skeef aangekyk te word.  Dit het eenkeer met my gebeur toe ek ‘n kerk in Pretoria besoek het.  Ek het ‘n bekende vrou gesien en vir haar gewaai.  Sy het gou weggekyk en nie terug gewaai nie.  Ná die diens toe hoor ek ek het vir die verkeerde persoon gewaai.  Dit was nie die vrou wat ek geken het nie, maar haar tweeling sussie.  Net soos wat ‘n tweeling jou kan verwar, kan jy soms onseker wees wie gered is en wie nie.  Party ongelowiges kan uiterlik soos gelowiges lyk, net soos wat sekere soorte onkruid soos koring kan lyk.  Hoe kan jy dan seker wees of jy gered is of nie?  Wat is die bewyse van ware redding?  1 Johannes 3:11-24 help ons om hierdie vrae te beantwoord.

 

’n Bewys van redding (v.11-18)

Gestel jou ma is besig om te sterf. Haar enigste hoop is as sy twee nuwe niere kry.  Sal jy bereid wees om jóú niere te skenk sodat sy kan lewe en jy sterf?  Miskien.  Maar wat as dit jou grootste vyand was:  sou jy vir hom of haar twee niere skenk?  Jesus het sy lewe gegee, sodat sy vyande kan leef.  Dít is liefde.

 

‘n Man in Nelspruit het Clem Goetsche se getuienis met my gedeel. Gedurende die Tweede Wêreld Oorlog het sy offisier gesê hy moet in ‘n loopgraaf klim om te kyk of alles veilig is.  ‘n Mede-soldaat het gesê hý sal inklim.  ‘Clem is nie gereed om te sterf nie – ek ís,’ het hy gesê.  Die Christen soldaat het in Clem se plek gesterf.

 

Sulke liefde is ‘n bewys van ware redding. Dit is soos ‘n Christen in Rusland of China wat tronkstraf en marteling kies eerder as wat hy sy broers verraai en weggee.  Ware liefde is soos Rageltjie de Beer wat in die sneeustorm haar klere vir haar boetie gegee het, sodat hý kan lewe en sý sterf.  Christelike liefde is gereed en bereid om op te offer.

 

Iemand wat nie sy broer liefhet nie is ongered en die duiwel se kind (v.10). Die ware gelowige volg die boodskap wat hy van die begin af gehoor het, naamlik dat hy sy broer moet liefhê (v.11, Johannes 13:34-35).  Moenie soos Kain wees wat sy eie broer gehaat en vermoor het nie (v.12, Genesis 4:1-16).  Sy moord op sy broer het gewys hy is uit die bose (v.12, 10, Johannes 8:44).  En hoekom het hy hom vermoor?  Dit was nie omdat Abel hom skade aangedoen het nie.  Dit was eerder omdat hy boos was en Abel se opregte offer en heilige lewe gehaat het (v.12).  Abel se regverdige lewe het Kain se sondige hart blootgelê, en Kain het dit gehaat.  “En die wat kwaad vir goed vergeld, behandel my vyandig, omdat ek die goeie najaag.” (Psalm 38:21).  “Manne van bloed haat die [regverdige], en hulle soek die lewe van die opregtes.” (Spreuke 29:10).  Net so het die Fariseërs vir Jesus laat kruisig, omdat hulle sy heilige lewe gehaat het (Markus 15:10).

 

Net soos wat Kain vir regverdige Abel gehaat het, moet ons nie verbaas wees as die bose wêreld ons haat en vervolg nie (v.13, Johannes 15:18, 17:14). Wees verbaas en bekommerd as die wêreld jou prys en jou nié teenstaan nie, want dit beteken jy is een van hulle (Johannes 15:19a).  Soos haat teenoor Christene die wêreld kenmerk (v.13), wys opregte liefde vir Christene jy is nie geestelik dood nie – jy lewe (v.14, Johannes 5:24).  Iemand wat sy broer haat is ‘n moordenaar.  Moord met ‘n mes begin by haat in die hart en eindig in die hel (v.15, Matteus 5:21-22, Openbaring 21:8).  Volg en ervaar eerder Jesus se liefde aan die kruis (v.16).  Jesus het vir sy vyande gesterf (Romeine 5:7-8), en kan jy nie eers jou lewe vir jou broer gee nie (v.16)?  ‘n Christen neem nie ander se lewens nie (v.12, 15), maar gee sy lewe vir sy broers (v.16).

 

Dalk sal jy nie jou lewe hoef te gee nie (v.16), maar jy kan opoffer en jou broer in sy nood help (v.17, 2 Korintiërs 9:11, Efesiërs 4:28, Galasiërs 6:10). Iemand met aardse rykdom wat gevoelloos wegkyk en sy hart vir sy broer in nood sluit, ken nie God se liefde nie en is ongered (v.17, 4:20, Deuteronomium 15:7, Jakobus 2:15-16).  Ware liefde bestaan in praktiese dade en nie in mooi praatjies nie (v.18).

 

Wees lief vir die broers. Hoe?  Aan die kruis het Jesus sy liefde vir ons gewys.  Ervaar en ontvang sy liefde in jou hart, sodat jy sy voorbeeld kan volg en die broers kan liefhê (v.16).  Moenie net daaroor dink en praat nie, maar doen dit (v.18).  Moenie soos die wêreld wees wat iets terug verwag as hulle goed gedoen het nie.  Jesus het gesê:  “Wanneer jy ‘n môre— of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie.  Maar wanneer jy ‘n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.” (Lukas 14:12-14).

 

Wees bereid om op te offer, dit aan jou sak te voel, en jouself kort te doen (v.17, Handelinge 11:27-30). Dit beteken nie jy moet jou kinders se brood vat en dit vir die bedelaar op die straathoek gee nie.  Om vir ‘n drankverslaafde boemelaar R100 te gee is nie liefde, maar haat – jy help hom van die wal af in die sloot.  Johannes praat nie hier van die man op straat nie, maar van liefde vir jou broer.

 

Hoe meet jý op? Is jou lewe een van liefde vir die broers?  Wys jy dit prakties?  Wys jou begeerte na die gemeenskap van gelowiges jy is lief vir die broers?  Is jou gedagtes alewig vol van bitterheid en dagdromery oor hoe jy jou broer uit jou lewe kan kry?  Is jy kwaad as jy jou broer sien of aan hom dink?  Indien wel, is jy ongered (v.15).  Bekeer jou van jou bitterheid, haat, en moord.  Soos Jesus die moordenaar aan die kruis langs Hom gered het, kan Hy jou red.

 

Pasop dat jy nie die orde omkeer nie. Iemand wat dink:  ‘As ek die broers liefhet sal ek hemel toe gaan,’ span die kar voor die perde.  Liefde vir die broers is ‘n bewys van redding, en nie die oorsaak daarvan nie.  Iemand wat dink dit is die oorsaak, sal goed doen aan ander uit vrees vir die hel.  God se eer en sy broer se welvaart is nie sy prioriteit nie, maar hy doen goed aan ander omdat hy sy eie bas wil red.

 

Sekerheid van redding (v.19-24)

Ons het eendag om die tafel gesit toe my vrou met ons seun grap en sê: ‘Hulle het babas in die hospitaal omgeruil.  Jy is nie regtig ons kind nie.’  Hy het verbaas na haar gekyk en gesê:  ‘Regtig!?’  Sy het gelag en gesê:  ‘Ek terg net.’  Gestel hy het begin twyfel en gewonder:  ‘Is ek regtig hulle kind?’  Dit sou maak dat hy nie die vrymoedigheid kon hê wat ons ander kinders het nie.

 

So is dit met die Christen wat oor sy redding twyfel en wonder of God regtig sý Vader is.  Hy dink God wil ánder help, en voel God is teen hom eerder as vir hom (Romeine 8:31).  Sy onsekerheid maak ook dat hy dink:  ‘Dit help nie ek bid nie, want God gaan in elk geval nee sê.’  Dit sal uiteindelik daartoe lei dat hy biddeloos word.  Ja, jy kan gered wees sonder dat jy sekerheid het.  Die plant kan lewe sonder dat dit blomme aan het.  Ons moenie sekerheid van redding met redding self verwar nie.  Tog wil God nie hê gelowiges moet hulle kindskap of sy liefde vir hulle betwyfel nie.  Om hierdie rede het Hy v.19-24 in die Skrif laat opteken.

 

Dié wat volgens v.11-18 liefhet, kan verseker weet hulle is ware gelowiges (v.19). By hulle is daar geen rede vir angs of twyfel nie, maar hulle kan hulle harte gerusstel dat hulle kinders van God is (v.19).  Op die oordeelsdag sal Hy hulle inneem en nie wegwys nie.

 

Wat as jy volgens v.11-18 liefhet, maar jou hart veroordeel jou en jou gewete pla jou en sê jy is ongered? Net soos wat die vals gelowige se gewete hom kan bedrieg en sê hy is gered, kan die ware gelowige se gewete fouteer en sê hy is ongered.  God is groter as jou gewete, weet alles, en kan nie fouteer nie (v.20).  Hý sê dat dié wat volgens v.11-18 liefhet, gered is.  Moet dan nie na die twyfel in jou hart, jou oorsensitiewe gewete, jou bedrieglike emosies, of die duiwel se leuens luister nie (v.20).  Jou hart en gewete is nie die standaard nie – God en sy Woord is (v.20, 1 Korintiërs 4:4).

 

Iemand wie se hart en gewete hom nié veroordeel nie, het groter vrymoedigheid voor God en vrees nie vir die oordeelsdag nie (v.21, 4:17-18). Hy twyfel nie, maar is oortuig dat God sy Vader is.  Hoe weet hy dit?  Sy geloof in alles wat Jesus is en doen, sy liefde vir die broers, sy begeerte om God tevrede te stel, sy gehoorsaamheid, en die Heilige Gees se getuienis in sy hart bewys dit (v.22-24).

 

Omdat hy sonder twyfel weet God is sy Vader, bid hy vrymoedig en verwag hy ‘n antwoord (v.22, 5:14, Matteus 7:7-11, Hebreërs 4:16). Saam met Charles Wesley sê hy:  ‘Bold I approach the eternal throne.’  Hy weet hy is in God en God in hom (v.24, Johannes 15:4-5, 17:21, 14:23, Galasiërs 2:20).  Juis daarom is gebed vir hom so natuurlik soos dink of asemhaal.  Hy is nie soos ongelowiges wat net bid as hulle in die sop is of as hulle iets wil hê nie.  Gebed en God se antwoord daarop kenmerk sy lewe.  God antwoord nie ongelowiges se gebede nie (1 Petrus 3:12, Spreuke 15:8, 29).  Ja, ware Christene kan soms bid en ‘n stil hemel ervaar.  Dit gebeur as:

 

  • Hulle twyfel (Jakobus 1:5-8).
  • Hulle biddeloos is (Jakobus 4:2).
  • Hulle selfsugtig bid (Jakobus 4:3).
  • Hulle sonde koester (Psalm 66:18, Jesaja 59:2).
  • Hulle bitter en onvergewensgesind is (1 Petrus 3:7, Markus 11:25).
  • God hulle wil leer om te volhard (Lukas 18:1).

 

Oor die algemeen antwoord God egter hulle gebede (v.22). Dit maak dat hulle wéét hulle is gered, en dat hulle met nóg meer vrymoedigheid bid (v.22).

 

Maak seker jy is gered. Hoe?  Moenie te veel van jou gevoelens maak nie, maar meet jouself objektief aan die drie toetse in 1 Johannes:

 

[1] Is jy gehoorsaam aan God en haat jy sonde?

 

[2] Is jy lief vir die broers of haat jy hulle en is jy bitter?

 

[3] Glo jy die waarheid oor Jesus en die evangelie?

 

As jy hierdie toetse slaag, kan jy sonder twyfel weet dat die subjektiewe oortuiging in jou hart die Heilige Gees is (v.24). Paulus sê:  “Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep:  Abba, Vader!  Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Romeine 8:15-16).  As jy nié hierdie toetse slaag nie en nogsteeds seker voel jy is gered, bedrieg jou hart en die duiwel jou.  Op die oordeelsdag sal jy met ‘n skok agterkom jy was verkeerd (Matteus 7:21-23).

 

As jy sekerheid soek moet jy nie die fout maak om te dink jy moet Johannes se drie toetse slaag om gered te word nie.  Hierdie toetse (soos reeds gesê) is die bewys van ware redding, en nie die oorsaak daarvan nie.  Hoe kan jy gered word en sekerheid kry?  Reageer in geloof, vertroue, berou, en bekering op die lewende Jesus en op wat Hy aan die kruis gedoen het.  Dink aan hoe pervers, selfsugtig, en skynheilig jou hart is, en besef jy kan nooit met godsdienstige pogings die Here omkoop om jou te red nie.  Kyk in dankbare geloof na Jesus wat aan die kruis hang en uit liefde bereid was om die straf te kry wat jy verdien.  Glo God se belofte dat almal wat dít doen vergewe sal word, en dat hulle die ewige lewe sal kry (Johannes 6:40).

 

Die Heilige Gees sal jou begeertes en dade so verander, dat jy Johannes se drie toetse kan slaag en verseker kan weet jy is gered.  Jy sal nie meer die oordeelsdag vrees en onseker wees of jy dit gaan maak of nie.  Jy sal vrymoedigheid hê voor God, want “daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Romeine 8:1).

 

Wat is die dinge wat keer dat mense sekerheid en vrymoedigheid het?

 

  • Hulle vertrou op hulle dade om God se guns te wen. So iemand sal altyd onseker wees en wonder of hy genoeg gedoen het.
  • Hulle lewe in sonde. Hoe kan jy sekerheid hê as jy die Heilige Gees wat sekerheid gee, bedroef?
  • Hulle glo ‘n Christen kan sy redding verloor. Wie kan vrymoedig wees as hy nie weet of hy tot die einde toe sal volhard of nie?

 

Iemand wat sekerheid het sal in vrede lewe en sterf, terwyl die twyfelaar in sy lewe en dood angstig sal wees.

 

Ek het ‘n ouderling se vrou ontmoet wat vir jare lank gedink het sy is gered. Ander mense het ook so gedink.  ‘n Slegte ding het in haar lewe gebeur, sodat die sonde in haar hart sigbaar geword het.  Gedurende hierdie tyd het sy besef sy was nooit waarlik gered nie.  Deur die Here se genade het sy tot bekering gekom.  Sy en die mense in haar gemeente was verbaas.

 

Wat van jou? God wil hê jy moet jouself ondersoek en seker maak jy is gered.  Maak jou roeping en verkiesing vas (2 Petrus 1:10).  “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef.” (2 Korintiërs 13:5).