Die winter van God se oordeel

Biting winter

John Bunyan het gesê dat daar sekere plekke in die wêreld is waar die bome nie vrugte dra nie, omdat daar geen winter is nie.  Net so sien ons in Jes.17-19 hoe God die winter van sy oordeel oor die nasies gestuur het om hulle voor te berei vir die lente van sy seëninge.

 

Sirië (hfst.17)

‘n Oom in ons gemeente het my vertel hoe die bokke in Zimbabwe tussen die bouvallige huise rondloop.  Sirië se hoofstad Damaskus was so:  die Here het dit in bourommel verander (17:1).  Deur die koning van Assirië het Hy die land tot by Aroër in die suide getref het, sodat dit verlate was en mense se kleinvee rustig daar gewei het (17:2).

 

Efraim of Israel het voorheen op Damaskus gesteun om haar teen Assirië te help (Jes.7).  Toe Assirië haar egter verower het (2 Kon.16:9), kon Israel nie meer by haar geskuil het nie (17:3).  En tog was dit nie klaarpraat met haar nie:  in die toekoms sou sy so heerlik soos Israel gewees het (17:3).

 

Maar voordat die Here vir Israel verheerlik het, het Hy haar verneder en sy voorspoedige volk uitgeteer (17:4, 1 Sm.4:21).  Israel sou gewees het soos ‘n kaalgestroopte koringland in die Refaim vallei suid van Jerusalem, soos enkele olywe op ‘n olyfboom nadat dit goed geskud is (17:5-6).

 

God se tugtiging het daartoe gelei dat hulle nie meer op hulle handgemaakte gode vertrou het nie, maar op die Heilige van Israel (17:7-8, Mg.5:12-13).  In die verlede het hulle die Rots van hulle verlossing en beskutting vergeet om op die ‘ingevoerde stiggies’ van Damaskus te vertrou (17:10).

 

Die vestings van Israel se stede het hulle nie beskerm nie; dit het leeg geraak soos toe Josua die Kanaäniete verdryf het (17:9).  Die ‘ingevoerde wingerd’ van Damaskus het hulle ook nie gehelp nie; dit het vinniger gevrek as wat dit opgekom het, sodat Israel pyn en smart beleef het (17:11).

 

En tog het die Here haar teen die dreunende golwe van Assirië en die nasies beskerm (17:12-13).  Toe Hy hulle gestraf het, het hulle soos die Rooi See gevlug, en was hulle soos kaf en stof wat deur ‘n stormwind weggewaai word (17:13, Ps.1:4, 83:14).  Hy het dié wat sy volk geroof en geplunder het in die nag getref, sodat hulle nie die son sien opkom het nie (17:14, 37:36).

 

Vertrou op die Here as jy in die moeilikheid is.  Lê jou sorge in gebed aan sy voete neer, en vra vir ander gelowiges om saam te bid.  Ondersoek die Skrif om te sien wat dit oor jou situasie sê.  Vra ander gelowiges vir hulp as jy nie weet waar om te begin nie.

 

Moenie op jouself, jou vermoeëns, jou salaris, die dr., die ds., of iemand anders vertrou om jou lewe te verander nie.  Ek weet dat die Here soms middele gebruik om ons te help, maar jy kan nie jou absolute vertroue daarin stel en van die Here vergeet nie (17:7-10).  As die Here jou nie help nie, kan niemand anders dit doen nie (Ps.127:1-2).

 

Etiopië (hfst.18)

In 715 v.C. het die Etiopiese koning Piankhi Egipte verower, en die Vyf-en-twintigste Dinastie gevestig.[1]  Kus of Etiopië van ouds het van die horing van Afrika, deur Soedan tot in Egipte gestrek.  Omdat die Nylrivier daardeur gevloei het en daar baie insekte met gonsende vlerke was, het Jesaja dit as die land van riviere en vlerkgegons beskryf (18:1-2).

 

Toe Assirië teen Juda geveg het, het Etiopië boodskappers in gevlegde en geseëlde papirus bootjies teen die Nylrivier opgestuur (18:2).  ‘Ons sal julle beskerm,’ het hulle gesê.  Jesaja het vir hulle gesê om na hulle land toe terug te keer, die land van lang mense met gladde velle (18:2).

 

Alhoewel hulle die gevreesde en magtige Etiopië was, het die Here nie hulle hulp nodig gehad nie:  Hy sou self sy volk se vyande oorwin het (18:2-6).  God se oorwinning sou so duidelik vir die nasies gewees het soos ‘n banier op ‘n berg, of soos iemand wat hard op ‘n trompet blaas (18:3).

 

God het vir Jesaja gesê:  ‘Ek sal in die hemel sit en so stil soos hitte, dou en die seisoene teen Assirië werk.’ (18:4, 37:36).  Assirië het gedink dat die tyd ryp is om Jerusalem soos druiwe af te snoei.  God het hulle egter voorgespring en Assirië se takke afgekap (18:5).  Daar was so baie lyke dat roofvoëls dit in die somer gevreet het, en wilde diere in die winter (18:6, 37:36).

 

Duidelik het die Here nie Etiopië se hulp nodig gehad nie.  Hulle het sý hulp nodig gehad.  In die toekoms sou die gevreesde Etiopiërs na die hemelse berg Sion toe gekom het om vir God geskenke te bring en Hom te aanbid (18:7).  Dit het begin toe die Etiopiër in Hd.8 tot bekering gekom het.  Deur die kerk se geskiedenis was daar ware gelowiges in Etiopië.  Vandag is daar byna 20 miljoen evangeliese Christene.  In die toekoms sal die land in sy geheel na die Here toe draai (18:7, 2:3, 11:10, Ps.68:32).

 

Dit maak my hoopvol vir Etiopië en die res van ‘donker’ Afrika.  ‘n Zulu petrol joggie het twee weke gelede vir my gevra hoekom ons nie van swart mense in die Bybel lees nie.  Ons doen!  Volgens Nm.12:1 het Moses ná Sippora met ‘n Etiopiër getrou.  ‘n Etiopiër genaamd Ebed-Meleg het vir Jeremia gehelp en ook in die God van Israel geglo (Jer.38:7-13, 39:16-18).

 

Dit is waarskynlik dat die bruid in Hooglied swart was (Hgl.1:5-6).  Simon van Cirene het van Afrika af gekom en was swart (Mk.15:21).[2]  Die Etiopiër wat in Hd.8 in Christus geglo het was swart.  So het die evangelie Afrika bereik voordat dit enige ander kontinent bereik het.  Simeon Niger wat saam met Paulus ‘n leier in Antiochië was, was swart (Hd.13:1).

 

Ja, Afrika is vasgevang in ‘n net van sonde en die gevolge daarvan:  voorvader aanbidding, toordokters, ‘prosperity’ predikers, poligamie, VIGS, korrupsie, misdaad, luiheid, werkloosheid, armoede, diktators, dwelm- en mense handel, en meer.  Maar volgens Jes.18:7 en soortgelyke tekste, sal dit in die toekoms verander.  Die meeste mense sal nie meer soos die Rastafarians glo dat Etiopië se Haile Selassie die Messias, die Leeu van Juda, of die vleesgeworde God is nie.  Hulle sal eerder soos die Etiopiër in Hd.8 bely dat Jesus die Messias is.  Ons moet die Here hiervoor prys en hard stry om die oorblyfsels van rassisme uit ons harte uit te verwyder.

 

Egipte (hfst.19)

Suid-Afrika se gemiddelde reënval is omtrent 450 mm per jaar.  Egipte se gemiddelde jaarlikse reënval is tussen 20 en 200 mm teen die kus, en 0 mm in die res van die land.  Hulle is dus heeltemal afhanklik van die Nylrivier.  Hierdie inligting sal jou help om ‘n groot gedeelte van hfst.19 te verstaan.

 

Die Here het spoedig op ‘n wolk gery om vir Egipte te oordeel (19:1, Ps.104:3).  In Eks.7-12 het Hy die gode van Egipte d.m.v. die tien plae geoordeel (Eks.12:12).  Toe Hy dus weer teen Egipte gekom het, het die mense en gode Hom gevrees (19:1, vgl. 1 Sm.5:2-4).

 

Hy het gemaak dat die Egiptenare teen mekaar baklei (19:2).  Die mense het vir hulle gode en towenaars raad gevra, maar niemand kon hulle help nie (19:3, vgl. 8:19).  Uiteindelik het die Here ‘n streng meester oor hulle geplaas, die konings van Assirië en Babilon (20:4, Jer.46:26).

 

God het ook die Nylrivier opgedroog, en so die land se water voorraad uitgeput (19:5).  Die opdroogte vertakkings en kanale, vrot riete, en walle wat deur wind erosie weggevreet is, het Egipte se landbou, visserye, klere bedryf en ekomomie op sy kop gekeer (19:6-10).  Die boere was depressief, die rykes verpletter, en dié wat vir hulle gewerk het werkloos (19:9-10).

 

Die regering was stomgeslaan; die wysste ministers se raad was dwaas (19:11).  Die land van wyse raadgewers (1 Kor.4:30) kon nie die tekens van die tye gelees het om te sien dat dit Gód was wat hulle gestraf het nie (19:12).  Die seuns van antieke konings (die prinse van die hoofstad Soan en die vorige hoofstad Memfis of Nof) het hulleself en die volk mislei (19:11, 13).

 

Met hulle slegte raad het die hoekstene of grootkoppe van Egipte die land laat slinger soos ‘n dronk man wat in sy eie uitbraaksel gly (19:13-14).  God het vir ‘n bose gees toestemming gegee om hulle so te verwar (19:14, 1 Sm.18:10, 1 Kon.22:20-23, 2 Ts.2:11).  Die leiers was die hoë palmbome en die kop, en die volk die lae riete en die stert (19:15).  Nie een van hulle kon egter iets gedoen het om die land te red nie (19:15).

 

In die toekoms sal God sy vuis oor Egipte swaai, en sal hulle soos vroue bewe (19:16).  Hulle sal bang wees vir Juda, en nie andersom nie (19:17).  Hulle sal dink dat die Here téén hulle is, terwyl hulle vrees eintlik die begin van ‘n ware verhouding met Hom is (19:17, Sp.1:7).

 

Ons moet dus nie moedeloos raak wanneer ons sien dat Egipte huidiglik deur Islam oorheers word nie.  In die eerste paar eeue n.C., het ‘n klomp van die kerk se grootste leiers van Egipte af gekom.  In die toekoms sal hulle weer na die Here toe draai.  Vyf van die land se stede – o.a. een wat sterk onder die invloed van afgodery was – sal die taal van Kanaän praat en hulle trou aan die Here sweer (19:18).

 

Uiteindelik sal dit die hele bevolking beïnvloed, en tot by die land se grense uitbrei (19:19, vgl. Gn.28:13, 18).  Mense wat in die land inkom sal weet dat Egipte nie meer afgode aanbid nie, en dat God sy Seun gestuur het om hulle van die vlees, die duiwel en die wêreld te verlos (19:20, 3).

 

God sal Homself aan die Egiptenare bekend maak, en hulle sal Hom ken en aanbid (19:21, 11:9, Heb.8:11).  As hulle sonde doen sal Hy hulle tugtig, en as hulle weer na Hom toe draai sal Hy hulle vergewe (19:22, Heb.12:5-11).  Hulle geloof sal na ander dele van die wêreld toe versprei, sodat hulle saam met die Assiriërs van Iran die ware God sal aanbid (19:23, 2:2-4).

 

Soos met Israel, sal Egipte en Iran ook die Here dien (19:24).  Israel se bekering in die toekoms sal seën vir die wêreld beteken, sodat die nasies na Christus toe draai (19:24, Gn.12:3, Jh.3:17, Rm.11:12, 15).  Israel, Egipte, Assirië, en die res van die nasies wat in Jesus glo, sal sy volk, die werk van sy hande, en sy erfdeel wees (19:25, Ef.1:18, 2:10-22, Tit.2:14, 1 Pet.2:9-10).

 

Ek wil nie die arme perd holrug ry nie, maar ek kan nie vir jou sê hoe hierdie waarheid oor die afgelope 18 maande my gebedslewe beïnvloed het nie.  Dit het my gehelp om groot gebede vir die wêreld te bid, en om nie by my eie lewe en my probleme vas te hak nie.  Dit het my gehelp om hoopvol te wees dat God dinge in Suid-Afrika kan omkeer.

 

As die Here wil, kan Hy bose stede soos Kempton Park, Tembisa, Johannesburg, Soweto, Kaapstad, en ander stede in ons land na Hom toe draai (19:18, Hd.8:8, 9:35, 13:44).  Vir Hom is dit geen moeite om ‘n hele land na Hom toe te trek nie (19:19, Ps.22:28, 86:9, Mt.19:25-26).  Net soos Hy ons in die verlede gebruik het om die res van Afrika en die wêreld met die rykdom van goud en diamante te seën, kan Hy ons gebruik om hulle met die skatte van Jesus, die Bybel en die evangelie te seën.

 

Om dan met dringendheid vir die nasies te bid, sendelinge uit te stuur, en die evangelie met ons landsgenote deel, moet hoog op die lys van ons gemeente se prioriteite wees.  Uit ervaring kan ek sê dat dit nie sonder deeglike beplanning gaan gebeur nie.  Terwyl die winter van God se oordeel in ons land en wêreld byt, moet ons konkrete stappe neem om die grond voor te berei vir die lente.  Natuurlik moet ons nie nét bid nie, maar gebed is verseker die beste plek om te begin.

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.161

[2] Moslems het Noord-Afrika ‘n paar eeue na Christus geïnfiltreer.  Moderne Libiërs kom van Arabië af, maar dié wat in Jesus se tyd gelewe het was swart.

Advertisements

’n Afspraak met die Messias

Woman at the well

Toe ek op hoërskool was het my ma vir my geleer om God save the Queen op die klavier te speel.  Toe ons eenkeer by my ouma-hulle gaan kuier het, het ek voor die klavier gaan sit om die Britse volkslied te speel.  My oupa was onsteld en het vir my gesê:  ‘Daardie mense het ons voorvaders doodgemaak – hoe kan jy hulle volkslied speel?’  Ek het nie verstaan hoekom dit hom so ontstel het nie… totdat ek in Desember ‘n boek oor die Anglo-Boere oorlog gelees het, en vroeër vanjaar ‘n dokumentêr daaroor gekyk het.  Op dieselfde manier moet jy in die annale van die geskiedenis gaan delf om die haat tussen die Jode en die Samaritane te verstaan.

 

Kort nadat Salomo dood is, het Israel in twee geskeur (1 Kon.11-12). Jerusalem was die hoofstad van die suidelike ryk, terwyl Samaria die hoofstad van die noordelike ryk geword het.  In 722 v.C. is Samaria verwoes, en het die Assiriërs die mense van die noordelike ryk gevange geneem en in hulle stede laat woon (2 Kon.17:6, Es.4:9-10).  Die armste mense het in die land agtergebly (2 Kron.30:5, 10-11, 18, 34:6).

 

Die koning van Assirië het toe mense uit verskillende wêreldstede gebring om in die stede van Samaria te woon (2 Kon.17:24). Omdat hulle afgode aanbid het, het die Here leeus gestuur om hulle dood te maak.  Die koning van Assirië het toe ‘n Israelitiese priester na Samaria toe teruggestuur om vir die mense te leer hoe hulle die Here moet vrees.  Hulle het hulle afgodery met Jahwe-aanbidding vermeng, en dit so vir die volgende geslagte geleer (2 Kon.17:25-41).  Uiteindelik het hulle van hulle afgode ontslae geraak, maar hulle aanbidding was nie suiwer nie.

 

In 586 v.C. het koning Nebukadnessar van Babilon Jerusalem en die tempel verwoes. Hy het die Jode na sy land toe weggevoer.  In 538 v.C. het koning Kores van Persië hulle vrygelaat en toestemming gegee dat hulle die tempel in Jerusalem kon herbou (2 Kron.36).  Toe hulle besig was met die werk, het die Samaritane gekom en aangebied om te help, maar die Jode wou nie hulle hulp aanvaar het nie (Es.4:1-3).  Die Samaritane het toe probeer om te keer dat hulle die tempel herbou (Es.4:1-6, Neh.4:1-2).

 

In 409 v.C. is ‘n sekere Manasse (die hoëpriester se broer) deur Nehemia weggejaag omdat hy met Sanballat – die goewerneur van Samaria – se dogter getrou het (Neh.13:28). Manasse het na die Samaritane toe gegaan en met Darius Nothus se toestemming op berg Gerisim ‘n tempel vir hulle gebou.[1]  Manasse het toe die hoëpriester van hierdie tempel geword.  In 128 v.C. het Johannes Hirkanus – ‘n Jood – die Samaritane se tempel verwoes.  Êrens tussen 6-9 n.C. het die Samaritane die Jerusalemse tempel ontheilig deur menslike beendere daarin te strooi.[2]

 

Toe Jesus dus sy bediening begin het, was daar ‘n diep-gesetelde haat tussen hierdie twee groepe (Jh.8:48, Lk.9:52-53). En as ons dít verstaan, kry Jh.4:1-42 vir ons nuwe betekenis.  Vir ‘n Joodse Messias om die Samaritane te verlos, was waarlik ‘n groot ding.

 

Martyn Lloyd-Jones vertel die storie van ‘n sekere man in Wallis wat uit ‘n lewe van sonde gered is, en ‘n toegewyde Christen geword het. As gevolg van verskeie redes het hy ná sy bekering van sy gesin af weggeloop en egbreuk gepleeg.  Buiten vir sy seksuele sonde, het hy ook die huis onder sy vrou uit verkoop en die geld gemors.  Toe sy geld klaar was het die ander vrou hom gelos.  Hy was so misrabel dat hy besluit het om selfmoord te pleeg.  Toe hy oppad was om in die river te spring, het hy gehoor hoe Big Ben 18:30 slaan.  Skielik het daar ‘n gedagte deur sy kop gegaan:  ‘Lloyd-Jones gaan seker nou in die kansel instap.’

 

Hy het besluit om nog een keer na Lloyd-Jones te gaan luister. ‘Daarna sal ek myself doodmaak,’ het hy gedink.  Toe hy by Westminster Chapel inloop, was Lloyd-Jones besig om te bid.  Die eerste woorde wat hy gehoor het was:  ‘God have mercy upon the backslider.’  Sy verhouding met die Here is daar en dan herstel.  In die jare wat gevolg het, het hy ‘n ouderling geword.  Tot en met sy dood het hy die Here getrou gedien.[3]  Soos wat die Here daardie dag ‘n afspraak met hom gehad het, het hy in Jh.4:1-42 ‘n afspraak gehad met ‘n sekere Samaritaanse vrou en met die inwoners van Sigar.  En miskien het Hy vandag ‘n afspraak met jou.

 

Die Samaritaanse vrou (v.1-26)

 

[1] Die Lewende Water

Ek ken ‘n man wat hom voor sy bekering na allerhande godsdienste toe gewend het. Maar dit was eers toe hy die Here Jesus ontmoet het, wat sy hart rus gevind het.  ‘n Ander man het gehoop dat geld die leemte in sy hart sou vul.  Hy het op ‘n tyd sewe ingevoerde karre besit.  Onder hulle het hy ‘n Rolls Royce, ‘n Ford Mustang, en ‘n Cadillac gehad.  ‘Ek weet hoe dit voel om my voet op ‘n Ferrari en ‘n Lamborghini se pedaal neer te sit,’ het hy gesê.  Maar ten spyte van al sy rykdom was hy leeg.

 

Noudat hy tot bekering gekom het, het die Here sy siel versadig. Hy ry ‘n ou Toyota bakkie met 900 000 km op die klok.  Iemand het vir hom gesê dat Toyata vir hom ‘n nuwe bakkie sal gee as hy 1 miljoen km slaan, maar hy stel nie belang nie.  ‘As ek ‘n nuwe bakkie kry sal dit my aandag van die Here aftrek,’ het hy gesê.

 

Augustinus het in die vierde eeu geleef. Voor sy bekering was hy seksueel losbandig.  Hy het vir jare gesukkel om sy verslawing te oorkom, maar toe die Here sy sielsdors geles het, het hy vrygeraak.  Verlede Vrydag het ons by die beradingklas na ‘n CD oor dwelms geluister.  ‘n Jong man het vertel hoe hy verskillende soorte dwelms gebruik het om geluk te probeer vind.  ‘Ek het leeg gebly,’ het hy gesê.  Iemand wat een keer die lewende water gesmaak het, wil nie meer uit die wêreld se vuil toiletbak drink nie.  En dit is presies wat met die Samaritaanse vrou gebeur het.

 

Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels gedoop het as Johannes (v.1). Maar hulle het nie heeltemal reg gehoor nie, omdat Jesus nie self die mense gedoop het nie – sy dissipels het (v.2).  Hy wou nie gehad het mense moes sê:  ‘Ek is deur Jesus gedoop, terwyl jy maar net deur Andreas gedoop is’ nie.  Jesus het dadelik uit Judea vertrek om terug te gaan Galilea toe (v.3, 2:12-13, 3:22).  Dit was die Vader se wil dat Hy op ‘n sekere tyd, plek, en manier moes sterf, en as Hy langer in Judea gebly het sou die Jode Hom gestenig het (8:59).

 

Oppad Galilea toe moes Hy deur Samaria gaan, soos wat ‘n mens oppad Zimbabwe toe deur Limpopo moet reis (v.4). Jesus moes egter ook deur Samaria gereis het, omdat Hy ‘n Goddelike afspraak gehad het met ‘n sekere Samaritaanse vrou.  Sigar was die naam van die dorpie waar Hy stilgehou het (v.5).  Dit was naby die stuk grond wat Jakob vir sy geliefde en gunsteling seun Josef gegee het (v.5, Gn.33:19, 48:22, Jos.24:32).  In die Ou Testament was die plek se naam Sigem (Rgt.9:7).

 

Buite die dorp was daar ‘n put waaruit Jakob, sy gesin en sy vee gedrink het (v.6). Twee duisend jaar ná hom, het die Samaritane nogsteeds die put se vars vloeiende water gedrink.  Die put bestaan vandag nog.  Jesus het die 40+ km afgelê en was moeg, honger, en dors toe Hy teen 18:00 in Sigar aangeland het (v.6-8, Gn.24:11).  Dit dui vir ons aan dat Hy volkome mens was (19:28, Mt.8:24, 4:2, 21:18, Hb.4:15).

 

‘n Sekere Samaritaanse vrou het na die put toe gekom om water te skep (v.7). Die dissipels het dorp toe gegaan om kos te koop (v.8), en kon daarom nie volgens die gebruik vir hulle Rabbi water geskep het nie.  Gevolglik het Jesus die vrou vir ‘n bietjie water gevra (v.7).  Sy was verbaas, omdat geen Rabbi in die openbaar met ‘n vrou sou praat nie, en omdat Jode en Samaritane mekaar gehaat het (v.9).  Soos wat blankes in die verlede vir hulle bediendes blik borde gegee het om uit te eet, sou die Jode en Samaritane nie hulle breekware met mekaar gedeel het nie (v.9, vgl. Mk.7:3-4).

 

Jesus het in effek vir die vrou gesê: ‘As jy geweet het watse groot geskenk God vir jou wil gee, en dat dit die Messias is wat vir jou water vra, sou jy vir Hóm gevra het om die lewende water vir jou te gee.’ (v.10, 7:37-39, Jes.12:3).  Die vrou het glad nie geestelike dinge verstaan nie.  ‘Jy het nie eers ‘n emmer of ‘n tou nie, en die put is meer as 40 meter diep – waar sal jy hierdie lewende water kry?’ het sy gevra (v.11).  ‘Jy is tog nie belangriker as Jakob wat die put vir ons gegee het en self ook daaruit gedrink het nie, is jy?’ (v.12, 1:52, 8:53).

 

Jesus het in geen onduidelike terme vir haar gesê dat Hy wél groter is as Jakob nie. Dié wat uit Jakob se put gedrink het, sou weer dors geword het (v.13).  Dié wat egter van Jesus se lewende water gedrink het, sou nooit weer dors gekry het nie (v.14, 6:35).  Christus se lewende water sou soos ‘n fontein in sy siel opborrel (v.14, 10:10).

 

Die vrou wou graag van hierdie water gehad het, maar het nogsteeds nie Jesus se aanbod verstaan nie (v.15). Sy het nie aan haar siel gedink nie, maar aan die ongerief daarvan om elke dag 800 meter te loop om water te skep.  As Jesus haar die moeite kon spaar sou dit gaaf gewees het (v.15).  Vir haar was Jesus en sy lewende water nie ‘n noodsaaklikheid nie, maar ‘n kruk om die lewe geriefliker te maak – soos die Engelse sê, ‘a nice to have’.

 

Jesus wou ‘n lewende voorbeeld gegee het van wat Hy bedoel, en het vir haar gesê sy moet haar man gaan roep (v.16). Hy wou die dors in haar aanwakker, en het vir haar gewys dat sy tot nou toe sonder sukses die leemte in haar hart met mans probeer vul het.  Sy moes besef het dat sy verlore was, en dat sy ‘n Verlosser nodig het.  Maar sy het nie saamgespeel nie en het probeer om die onderwerp dood te praat.  ‘Ek het nie ‘n man nie,’ het sy gesê (v.17).  Jesus het geweet dat sy ‘n halwe waarheid praat, en het vir haar gesê:  ‘Ja, ek weet jy het nie ‘n man nie.  Jy het al vyf gehad, en bly nou saam met ‘n sesde een.  En om saam te bly is nie dieselfde as om getroud te wees nie.’ (v.17-18).

 

Die les vir ons is duidelik: drink uit die fontein van lewende water.  As jy dit nie doen nie, sal jy vir ewig dors wees in die hel (Lk.16:24).  Elke mens (selfs die ateïs) probeer om die leemte in sy siel met iets te vul.  In ‘n poging om sy dors te les, gryp hy na iets wat hy kan aanbid.  Paulus sê dat alle vorme van gierigheid afgodery is (Kol.3:5).  Sommige mense aanbid geld (Mt.6:24), terwyl ander kos aanbid (Fil.3:20).  Ander aanbid hulleself, hulle liggame, plesier, nuwe goed, helde, slaap, ontspanning, sport, TV, Facebook, YouTube, tegnologie, kennis, die natuur, stokperdjies, mense se goedkeuring, pille, drank, sjokolade, werk, musiek, enigiets – die lys is oneindig.  Ons probeer ons dors met hierdie dinge te les, en hoop dat die afgode ons begeerte sal vervul.

 

Maar dan gebeur die teenoorgestelde: jy word ‘n slaaf van die dinge wat jy aanbid, sodat jy uiteindelik nie meer ‘nee’ kan sê nie.  Jy kom agter dat die afgod ‘n harde meester is wat baie vereis en nooit iets teruggee nie.  Die dwelms wat jy gebruik, die nuwe goed wat jy koop, en die plesiertjies wat jy geniet versadig jou nie finaal nie.  Dit wat vir jou lekker gelyk het trek jou kaal uit en los jou met niks.  Dit vernietig jou gesondheid, jou verhoudings, jou finansies, en uiteindelik ook jou ewige siel.  Maar jy besef dit nie, totdat dit te laat is.

 

En wanneer jy met jou hande in jou hare sit, dan fluister die afgod met sy stink asem in jou oor: ‘Ek weet jy het tot nou toe nie sukses gehad nie, maar dalk moet jy nog net één keer probeer.  Ek is seker jy sal hiérdie keer gelukkig wees.  Een man is nie genoeg nie; vyf mans behoort die ding te doen (v.18).’  Die afgod fop jou, sodat jy weer in die strik trap.  Jy kom nie agter dat Pd.1:8 waar is nie:  “die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.”

 

Net Jesus kan die leemte in jou siel vul en jou dors les (v.14). Wanneer sal jy agterkom dat jou gunsteling sonde jou nie gelukkig kan maak nie?  Los die gekraakte drinkbakke van die wêreld – dit kan nie water hou nie (Jer.2:13).  Kom deur geloof en gebed na Jesus toe, en drink gratis uit Golgota se ewige fontein.  Moenie net jou lippe natmaak nie, maar hou aan drink totdat jou siel versadig is met Christus wat jou na die hemel se waterfonteine toe sal lei (Op.7:17).

 

Dalk hét jy al van hierdie water geproe. Jy het dit so geniet dat jy gedurig met die emmer van gebed kom skep het.  Maar intussen het jy van die Herder af weggedwaal om weer uit die stilstaande waterpoele van jou sonde te drink.  Dit het jou siek gemaak.  Dit is glad nie ‘n oordrywing om te sê dat jy maande of jare laas die soetheid van ‘n verhouding met die Here geniet het nie.  Jou dae van vrede en blydskap in Jesus is ‘n vae herinnering, sodat jy saam met Dawid bid om dit weer te ervaar (Ps.51:14).

 

Hoekom kom jy nie vandag terug na die Here toe nie? Hy sal jou met sy hele hart terug ontvang, en is meer as bereid om jou te vergewe.  “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader… Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jk.4:8, 10).  Kom was jou vermoeide siel in die fontein van sy bloed, en drink uit die koel vars strome van sy plesier; die helder waterstrome van Jesus en sy Woord (Ps.36:9).

 

There is a fountain filled with blood

 drawn from Emmanuel’s veins;

 and sinners plunged beneath that flood

 lose all their guilty stains.

The dying thief rejoiced to see

 that fountain in his day;

 and there may I, though vile as he,

 wash all my sins away.

E’er since, by faith, I saw the stream

 thy flowing wounds supply,

 redeeming love has been my theme,

 and shall be till I die.

–William Cowper–

 

[2] Ware aanbidding

Omtrent twee weke gelede het ‘n onbekende man by my vriende gehoor dat ek deel was van ‘n veldtog teen aborsie. Hy het my nommer gekry en vir my ‘n Whatsapp gestuur.  ‘Aborsie is gebou op die fondasie van evolusie,’ het hy gesê.  Na my mening is dit presies reg.  Iemand wat glo dat mense en lemoene uit dieselfde poel ontstaan het, behoort ook te glo dat aborsie heeltemal aanvaarbaar is.  Die manier waarop ‘n mens lewe is ‘n direkte uitvloeisel van wat hy glo.

 

Die Samaritaanse vrou se verkeerde idees oor God daartoe gelei dat sy ‘n afgod gemaak het van seks (v.22). Tog het sy probeer om haar sonde te verskoon.  Toe Jesus sy vinger op die rou senuwee van haar sonde gelê het, het sy die onderwerp verander en oor godsdiens gepraat.  Sy wou vir die ‘profeet’ gewys het dat sy nie só sleg was nie, en dat sy darem godsdienstig was (v.19-20).

 

‘Ons en ons voorvaders het die Here op hierdie berg aanbid,’ het sy gesê (v.20). ‘Berg Gerisim is die plek waar Abraham, Jakob, en die Israeliete vir God aanbid het (Gn.12:6-7, 33:18, 20, Dt.11:29, 27:12, Jos.8:33).  Maar volgens julle Jode is Jerusalem die plek wat God vir Homself uitgekies het (v.20, Dt.12:5, 11, 14, 18, 21, 26, 2 Kron.6:6, 7:12, Ps.132:13).  Wie is reg?’ het sy gevra.

 

Natuurlik het sy verwag dat Jesus ‘Jerusalem’ gaan sê. Maar Hy het nie.  ‘Dit is nie soseer die plek van aanbidding wat belangrik is nie.  Die vraag is eerder of jy die Here reg aanbid.  Die Samaritane aanbid verkeerd.  Julle glo nie die hele Ou Testament nie (hulle ‘Bybel’ het net uit die eerste vyf boeke bestaan), en daarom weet julle nie mooi wie of wat julle aanbid nie (v.22, 2 Kon.17:28-34).  Die Messias is ‘n Jood en daarom is verlossing uit die Jode (v.22, Mt.1:21, 2:4-5, Rm.9:5, 11:26, Jes.2:3).  Hy het egter gekom om mense uit alle nasies te verlos (v.42), sodat hulle die Vader in gees en in waarheid kan aanbid (v.23-24, Fil.3:3).  M.a.w. God wil nie hê dat mense Hom moet aanbid soos wat húlle wil nie, maar soos wat Hy in sy Woord voorskryf – in waarheid.  Hulle moet dit egter nie met ‘n koue hart doen wat net uiterlik by die reëls hou nie.  Hulle moet Hom met ‘n opregte hart aanbid – in gees.  God self is ‘n onsigbare en alomteenwoordige Gees, en daarom kan sy kinders op enige plek vergader om Hom te aanbid (v.24, 22, 1 Kor.3:16, Sef.2:11, Mal.1:11, 1 Tm.2:8).’  Die Jerusalemse tempel sou buitendien in 70 n.C. verwoes word.

 

Die vrou het nogsteeds nie toegegee nie en het gesê: ‘Ek weet dat die Messias kom.  Wanneer hy kom sal hy vir ons alles sê; hy sal besluit wie reg is tussen die Jode en die Samaritane’ (v.25).  Die Samaritane se onvolledige Ou Testament het gemaak dat hulle ‘n Messias verwag het wat niks meer was as ‘n leermeester nie, die Taheb, soos wat hulle hom genoem het (Dt.18:18).  Op grond van Nm.24:7 het hulle ook geglo dat daar water uit die Messias se emmers sou vloei.[4]  Êrens moes die vrou twee en twee bymekaar gesit het toe Jesus van Homself gepraat het as die lewende water (v.14).  In v.26 het Jesus dit reguit gesê:  ‘Die Messias van wie jy praat staan voor jou.’ (vgl. 9:35-37).  Hy was meer as net ‘n gewone leermeester; Hy was EK IS – die God van Eks.3:14 (v.26).

 

Aanbid die Here in gees en in waarheid. As jy dit nie doen nie, sal die afgode wat in die hoeke van jou hart wegkruip baie gou in jou lewe sigbaar word.  Om die Here reg te aanbid moet jy die hele Skrif in oënskou neem, en nie soos die Samaritane net aan jou gunsteling gedeeltes vashou nie.  Maak dan seker dat jy nie net die Nuwe Testament, Psalms en Spreuke lees nie.  Hoe kan jy die Here reg aanbid as jy nie weet wat die hele Bybel oor Hom sê nie?

 

Sien daarom sy heiligheid in Levitikus en sy liefde in Hosea; sy voortreflikheid in Hebreërs en sy geregtigheid in Romeine. Wat leer Esegiël, Jona en Openbaring oor God?  Iemand wat die hele Skrif se lering oor God in ag neem, sal saam met die Westminster Kategisme moet bely:  ‘God is ‘n Gees – oneindig, ewig, en onveranderlik in sy wese, wysheid, almag, heiligheid, geregtigheid, goedheid en waarheid.’

 

Om die Here reg te aanbid moet jy Hom nie net in waarheid aanbid nie, maar ook in gees.  Voordat jy lees moet jy bid dat die Here jou oë sal oopmaak (Ps.119:18).  Bely jou sonde, sodat dit nie in jou pad staan om Hom te ken nie (1 Pt.2:1-2).  Die Samaritaanse vrou kon nie die Here in gees en waarheid aanbid het, totdat sy nie eers haar sonde laat staan het nie.  Is daar ‘n sonde wat jy moet laat staan, sodat jy die Here opreg en in waarheid kan aanbid?

 

Die dissipels (v.27-38)

Van alle sendelinge wat in Suider-Afrika gewerk het, is David Livingstone seker die bekendste. In sy leeftyd en vir ‘n paar dekades daarna het geen sendeling vir soveel swart mense gepreek soos hy nie.[5]  En tog het hy nie regtig vrug op sy arbeid gesien nie.  Hy was egter oortuig dat die Here sy beloftes sou vervul, en dat Christenskap sal triomfeer.  “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jes.11:9).  “En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps.72:19).  Vir my lyk Jesus in v.35-38 juis dít vir sy dissipels gesê het.

 

Die dissipels het van die dorp af teruggekom net toe Jesus vir die vrou gesê het Hy is die Messias (v.26-27). Hulle was verbaas dat Hy met ‘n vrou gepraat het, en tog het nie een van hulle gevra:  ‘Wat soek jy?’ of ‘Hoekom praat U met haar?’ nie (v.27).  Die vrou het omgedraai en haar waterkruik daar gelos sodat Jesus kon drink (v.28, 7).  Haar aksie het uitgebeeld dat Jesus haar dors geles het.

 

Toe sy in die dorp aangekom het, het sy vir die mense van Jesus vertel (v.29). Sy wat voorheen ‘n uitgeworpene was het nie omgegee wat die mense dink nie – sy kon dit nie meer inhou nie, en moes eenvoudig vir hulle vertel het van die man wat haar hart en lewe geken het (v.29).  ‘Kan hy dalk die Christus wees?’ het sy gevra (v.29).  ‘Iemand wat vir ons alles kan vertel móét mos die Messias wees, nie waar nie?’ (v.25, 1:48-51).  Die mense het na die put toe geloop (v.30).  As hierdie vrou nie bang was om openlik oor skandelike lewe te praat nie, moes daar iets in Jesus gewees het, en die Samaritane wou geweet het wat dit was.

 

Terwyl die dorpsmense die 800 meter afgelê het, het die dissipels daarop aangedring dat Jesus iets moet eet (v.31). Hy wou egter nie, en het gesê dat Hy kos het waarvan hulle nie weet nie (v.32, 14).  Net soos wat die vrou nie sy les oor geestelike water verstaan het nie (v.15), het die dissipels nie geweet dat Hy van geestelike kos praat nie – hulle het gedink dat iemand anders vir Hom kos gebring het (v.33).  Jesus het dit toe duidelik gemaak:  ‘Om my Vader se wil te doen is die kos wat My versadig’ (v.34, 6:38, 17:4, 19:30, Job 23:12).

 

En wat was die Vader se wil? Dat Hy mense van hulle sonde moes red en in die hemel moes inbring, net soos wat ‘n boer die oes in sy skure inbring (v.35).  Die boer weet dat daar ná die saaityd min of meer vier maande moet verloop voordat hy die oes kan inbring (v.35).  Maar die geestelike oes wat deur Johannes die Doper en die Ou Testament profete gesaai is, was alreeds ryp; die dissipels kon dit net afpluk en inbring (v.35, 37-38).

 

Die Samaritane die Messias se koms verwag (v.25) en was gereed om Hom te ontvang (v.30). Dit is nie net dat mense in die toekoms tot bekering sou kom nie, maar Jesus was alreeds besig om mense te red en vrug vir die ewige lewe in te samel (v.36).  Dié wat saai sowel as hulle wat oes, sou saam bly gewees het oor die mense tot bekering kom (v.36-37, 1 Kor.3:7).  In Am.9:3 staan daar:  “Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.”

 

Wanneer gelowiges siek is, beproef word, of oud raak, wonder hulle soms hoekom hulle nog op die aarde is. Volgens die Bybel het die Here ons hier gelos om dissipels te maak (Mt.28:19-20).  ‘n Gelowige wat nie hiermee besig is nie, is ongehoorsaam.  Dit beteken nie dat elke gelowige sy werk moet bedank om ‘n sendeling, predikant of straatevangelis te word nie.  Dit beteken wel dat jy die evangelie moet leef en verkondig aan die mense met wie jy in aanraking kom.

 

Vertel dit vir jou kinders en kleinkinders; deel dit met jou gesin en familie; moenie skaam wees om vir jou vriende, kollegas en bure te vertel nie. Nooi hulle saam met jou kerk toe.  Moenie moed opgee as hulle ‘nee’ sê, of as hulle die evangelie verwerp nie.  Hou aan, “want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal.6:9).  Moenie dink dat die Here jou arbeid misgekyk het, of dat Hy van jou gebede vergeet het nie.  Die Here sal iemand stuur om te oes waar jy gesaai het, sodat julle saam bly kan wees (v.36-38).

 

Op die oomblik sien ons nie baie bekerings nie, maar ek glo dat die Here een van die dae iets gaan doen. Dalk is ons in die hemel wanneer dit gebeur, maar ek kan nie glo dat die Here ons sal stuur om te saai as daar nie ook ‘n oes sal wees nie.  Op grond van Jesus se eie woorde glo ek dat dit ‘n groot oes gaan wees.  Die Bybel sê vir my dat die Here se Koninkryk sal wees soos ‘n berg wat die hele aarde vul, en soos ‘n mosterd saadjie wat groei om die grootste plant in die tuin te wees (Dn.2:35, 44, Mt.13:31-32).  Christus se Koninkryk sal strek van see tot see (Ps.72:8, Sg.9:10).  Hy sal oor die hele aarde regeer.  Die Vader sal nasies as sy erfdeel gee, en hulle sal Hom aanbid (Ps.2:8, 72:11).

 

Die bekerings waarna ons nou smag sal in daardie dag soveel wees soos die sand van die see. Petrus het van hierdie tye geprofeteer (Hd.3:19).  Jode en heidene sal by die miljoene tot bekering kom (Rm.11:15, 25-27), sodat die grootste herlewings in die kerk se geskiedenis nie naastenby daarmee vergelyk kan word nie; dit sal wees soos ‘n skare op Loftus teen Indië se bevolking.  “Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie!  Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie!  Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE.” (Jes.54:1).

 

Die Samaritane (v.39-42)

Het jy al ooit ‘n gewone persoon ontmoet, om na ‘n paar maande agter te kom dat hy of sy welbekend is? Ek het eenkeer so iets ervaar.  Die persoon het vir my dood normaal gelyk.  Met die verloop van tyd het ek in internasionale Christelike tydskrifte van hom gelees.  Outeurs wie se boeke ek op my rak het, het van hom gepraat.  By ‘n predikante byeenkoms waar hy teenwoordig was, het sy selfoon gelui.  ‘Verskoon my broers,’ het hy gesê, ‘Dit is mnr. Mbeki.’  Ek weet tot vandag toe nie of hy ‘n grap gemaak het nie, maar vir my het hy ernstig gelyk.  Alhoewel Jesus volkome mens was, het die Samaritane agtergekom dat Hy nie maar net enigiemand is nie, maar die Verlosser van die wêreld (v.42).

 

In ooreenstemming met Jesus se opmerking oor die groot oes (v.35), het baie van die Samaritane in Hom geglo (v.39).  Dit het hulle verstom dat hierdie vreemdeling die losbandige vrou se geheime lewe geken het (v.39).  Hulle was nie soos die Jode wat maar net agter sy wonderwerke aangekom het nie, maar hulle het na Hom toe gekom en daarop aangedring [Gk., v.31] dat Hy by hulle moes bly (v.40, 30).  Hulle wou meer van Hom geweet het en by Hom geleer het.  Die feit dat hulle vir ‘n Jood gevra het om daar te bly wys dat hulle regtig geglo het Hy is die Een.  Jesus het vir twee dae daar gebly (v.40).  Gedurende hierdie tyd het baie van hulle geglo toe hulle sy Woord gehoor het (v.41, kontr. 3:11, 32, 1:11).  Hulle het geweet dat Hy inderdaad die Messias is van wie Moses gepraat het (v.25, Dt.18:15, 18).

 

Die vrou was reg om te sê dat Jesus alles weet. Nou het die Samaritane dit self uit sy mond uit gehoor (v.42).  Skielik het hulle besef dat Hy nie maar net ‘n gewone profeet of leermeester is nie (v.19, 25), maar dat Hy die Verlosser van die wêreld is (v.42).  Alhoewel Hy ‘n Jood was, het Hy nie net vir die Jode gekom nie (v.22).  Hy het ook gekom om die Samaritane te red (v.42, 3:16, 1 Jh.4:14).  Jesus het gekom om vername en godsdienstige Joodse mans te red (hfst.3), maar ook om lae klas en losbandige Samaritaanse vroue te red (hfst.4).

 

Maak seker dat jy persoonlik ervaar dat Jesus die Verlosser van die wêreld is. Dit sal tragies wees as jy dit uit die Bybel uit geweet het, maar verlore gaan omdat jy nie self daardie verlossing gesmaak het nie.  Die transformasie in ander mense harte en lewens behoort vir jou te wys dat Jesus regtig die Verlosser van die wêreld is (v.39, 42).  Vra dat Hy ook na jou hart toe sal kom (v.40).  Wees soos die Samaritane wat vir twee dae na sy Woord geluister het (v.40-41).  Sonder tyd af om die Bybel te lees (begin by Johannes); bid dat die Here jou oë sal oopmaak om te sien dat Jesus nie maar net die Verlosser van die wêreld is nie, maar dat Hy ook jóú Verlosser is.  Wanneer jy hierdie verlossing in jou siel ervaar het, sal jy besef dat Jesus in ‘n klas van sy eie is.  Hy alleen is die Verlosser van die wêreld en deel nie hierdie titel met Mohammed, Buddha of enigiemand anders nie.

 

Ons lewe in ‘n wêreld waar mense afsprake maak en kanseleer. Partykeer verhoed omstandige dat hulle die afspraak kan nakom.  As dit ‘n moeilike afspraak is, ignoreer of vermy mense jou oproepe.  Met Jesus is dit anders.  As Hy ‘n Goddelike afspraak met iemand gemaak het, kan hulle nie weghardloop of die afspraak kanseleer nie.  Hy sal sy raadsplan uitvoer en persoonlik met hulle ontmoet.

[1] Andrew Robert Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, ‘Samaria’ en James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, ‘Samaritans’

[2] A.B. du Toit, Handleiding by die Nuwe Testament II, p.511

[3] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, pp.302-303

[4] Beale & Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.439

[5] Iain Murray, The Puritan Hope, pp.181-183

’n Militêre basis vir God se soldate

Soldier reading Bible

Het jy al plaasboere ontmoet wat so ver van die dorp af bly, dat hulle net een keer per maand kan inry? Hulle kan nie gou dorp toe skiet vir brood of melk nie, en daarom is hulle yskaste so groot soos ‘n inloop kluis.  Hulle koop ‘n maand of twee se voorraad van alles.  In God se Koninkryk werk dit soms so.  Soos soldate is die sendelinge besig om in die veld te baklei, maar dikwels het hulle geen basis wat vir hulle vars voorraad stuur nie.  Ek praat hier van kerke wat hulle plig versuim en nie sendelinge ondersteun nie.  3 Jh.1-15 spreek hierdie probleem aan.

 

Gaius (v.1-8)

Die leierskap van ‘n klein gemeente in Engeland het vir Charles Spurgeon gevra om vir hulle ‘n predikant te stuur. Maar die salaris wat hulle aangebied het was so klein dat Spurgeon vir hulle geskryf het:  ‘The only individual I know, who could exist on such a stipend [salary], is the angel Gabriel.  He would need neither cash nor clothes; and he could come down from heaven every Sunday morning, and go back at night, so I advise you to invite him.’[1]

 

Ek weet van ‘n gemeente wat ‘n paar jaar gelede vir hulle assosiasie gevra het om vir hulle ‘n predikant te stuur. Hulle was bereid om hom R2000 per maand te betaal, maar hy moes vir sy eie vervoer, brandstof, en verblyf sorg.  Die Bybel is nie tevrede hiermee nie, “want die arbeider is sy loon werd.” (Lk.10:7).  Gaius was ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens sendelinge en ander Christelike werkers behoort te ondersteun.

 

As geestelike leier en ou man, het Johannes van homself gepraat as ‘die ouderling’ (v.1, 2 Jh.1, 1 Pt.5:1). Hy het sy brief aan Gaius gerig (v.1).  Soos wat John ‘n algemene naam is in die Engelssprekende wêreld, was Gaius algemeen in Johannes se leefwêreld.  Die Gaius van ons teks het onder Johannes se bediening tot bekering gekom (v.3-4, vgl. 1 Kor.4:14-15) en moenie verwar word met die Gaius wat onder Paulus tot bekering gekom het, en deur hom gedoop is nie (1 Kor.1:14).  Daar is meer as een Gaius in die Nuwe Testament.

 

Johannes en Gaius het dieselfde waarheid liefgehad, en daarom het Johannes ook vir Gaius self liefgehad (v.1-2, 5, 11, 2 Jh.1-2, 1 Jh.3:18). Johannes het by die broers gehoor dat Gaius sy lewe volgens die waarheid ingerig het, en dat dit geestelik met hom goed gegaan het (v.2-3).  Sy bede was dat Gaius se liggaam so gesond sou wees soos sy siel, en dat hy in elke opsig voorspoedig sou wees (v.2, 1 Ts.5:23-24).  Niks kon vir Johannes groter vreugde gebring het as om te hoor dat sy geestelike kinders volgens die waarheid lewe nie (v.4).  Hy het vir Gaius geprys omdat sy geloof prakties was en hy vreemde sendelinge in sy huis verwelkom het (v.5, Hb.13:2, Rm.12:13, 1 Pt.4:9).

 

Die sendelinge het na hulle tuisgemeente toe teruggekeer en vir die gelowiges van Gaius se liefde vertel (v.6). Hulle het intussen na Gaius toe teruggekeer om Johannes se brief vir hom te vat.  Johannes het gevra dat hy die goeie werk moes volhou en die sendelinge op hulle reis moes voorthelp (v.6).  Hy moes meer as net ‘n halwe bruinbrood en ‘n homp kaas vir hulle gegee het; hy moes hulle gehelp het asof dit Jesus was wat by sy huis oornag het (v.6, Mt.10:40, 25:35, 40).  Hy moes hulle reiskoste betaal het, en genoeg geld in hulle sakke gesit het vir padkos.

 

Die sendelinge het nie vir hulleself rondgereis nie, maar om die Here se Naam in die wêreld te verkondig (v.7). Hulle het nie soos Katolieke monnike uit die dertiende eeu, aan ongelowiges se deure geklop en gevra vir geld nie (v.7).[2]  Omdat hulle dan geen ander bron van inkomste gehad het nie, was dit die kerk se plig en nie die wêreld s’n nie, om hulle te ondersteun (v.7-8).  Dié wat dít gedoen het sou mede-werkers en vennote van die waarheid gewees het; deur hulle geldelike bydrae het hulle gehelp om die evangelie te versprei (v.8, kontr. 2 Jh.11).

 

Sendelinge en ander Christelike werkers moenie geldgierig wees nie (v.7, 1 Tm.3:3, 6:9-10), maar moet ook nie op die veld wonder of die basis vir hulle geld en kos gaan stuur nie. Volgens v.8 het ons ‘n verantwoordelikheid om vir hulle te sorg.

 

In 2007 het SASOL my broer en sy vrou vir twee maande Amerika toe gestuur vir opleiding en alles betaal: vliegtuig kaartjies, verblyf, etes, lesings, boeke, internet en meer.  Maar as die kerk haar beste soldate (sendelinge) op die veld uitstuur, verwag ons hulle moet vir geld bedel, self hulle reiskoste dek, en tevrede wees met tweedehandse klere en uitgedrukte teesakkies.  Om hulle só te ondersteun is nie waardig van die Here nie, en dra nie sy goedkeuring weg nie (v.6).

 

Dit is hartseer as die wêreld beter vir haar mense sorg as wat die kerk dit doen. Ons sê te maklik:  ‘Daar is nie geld nie.’  Waar is ons geloof?  Behoort Amerika se dollars en Engeland se ponde nie aan die Here nie?  “Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die HERE van die leërskare.” (Hag.2:8).  Die wêreld en alles daarin behoort mos aan die Here (Ps.24:1, 50:10-12).  Dit is nie reg om van die basis af vir die soldate te radio:  ‘Vertrou die Here – Hy sal vir julle voorsien!’ nie.  Hoekom vertrou die basis nie die Here om vars voorraad te voorsien, sodat ons dit vir die sendelinge op die veld kan stuur nie (Fil.4:14-19)?

 

Onthou asseblief dat sendelinge nie toeriste is wat met ‘n lang oorsese vakansie is nie. Hulle is soldate wat die Here se Naam en Koninkryk onder die heidene moet bevorder (v.7).  Hulle is Christene wat die luuksheid van hulle eie land prysgegee het om die evangelie in Suid-Soedan of Peru te verkondig.  Dit is die kerk se plig om ‘n militêre basis te wees wat vir die soldate kos, water, ammunisie, wapens, en troepe sal stuur.  Op hierdie manier is ons mede-werkers van die waarheid (v.8).

 

As die sendelinge gewond is en na die basis toe terugkeer, moet ons dit vir hulle so gerieflik as moontlik maak. Ons moet hulle in ons huise verwelkom, sorg dat hulle vervoer het, hulle vir ete nooi, saam met hulle die Bybel lees en bid, en meer (v.5-6).  As ons nié die Here se soldate ondersteun nie, is ons botweg ongehoorsaam.  Iemand het gesê:  ‘Jy kan ‘n sendeling wees, jy kan ‘n sendeling uitstuur en ondersteun, of jy kan ongehoorsaam wees.’

 

Diotrefes (v.9-10)

Ek weet van ‘n kerk waar een man die kitaar slaan. Almal in die kerk is bang vir hom.  Hy het sy aanhangers en draai die gemeente om sy pinkie.  Hy is veglustig en emosioneel so onstabiel soos die See van Galilea.  Niemand in die gemeente weet wat in die kerk se bankrekening aangaan nie, want in sy gedagtes behoort die geld en geboue aan hom.  Hy is die moderne eweknie van Diotrefes.  Die Here wou gehad het dat die kerk ‘n militêre basis vir sy soldate moes wees (v.5-8), maar Diotrefes het ingesluip en die basis gekaap (v.9-10).

 

Johannes het gesê dat hy iets vir die kerk geskryf het, maar dat Diotrefes dit nie aanvaar het nie (v.9). Hy het waarskynlik die brief van die gemeente af weerhou en dit opgeskeur (v.9).  Hy was hoogmoedig, arrogant en vir homself die belangrikste (v.9, kontr. 1 Kor.13:5, Mt.20:25-28).  Hy het geweier om Johannes se apostoliese gesag te aanvaar (v.9).  Daardeur het hy gewys dat hy nie ‘n ware gelowige is nie (1 Jh.4:6).

 

Johannes het gesê dat hy by sy volgende besoek Diotrefes se sonde aan die lig sou bring (v.10). Diotrefes het bose leuens oor hom en sy spanmaats versprei (v.10).  Hy wou nie gehad het dat die gemeente Johannes se leierskap bo sy eie moes erken nie, en daarom het hy geweier om enigiemand wat van Johannes af gekom het in die gemeente te verwelkom (v.10).  Sy obsessie met homself het gemaak dat hy mense manupileer.  As iemand vir Johannes wou luister om die sendelinge te verwelkom (v.5-8), het hy hulle uit die gemeente verwyder (v.10, Jh.9:34).

 

Ek het eenkeer van ‘n man gehoor wat glo sendelinge gaan nie hemel toe nie. Moet jou nie te veel steur aan wat mense, soos Diotrefes, oor sendelinge te sê het nie (v.9-10). God sê ons moet hulle ondersteun en verwelkom (v.5-8).  Vir my is dit rede genoeg om gehoorsaam te wees.

 

Ek glo nie iemand in ons gemeente is soos Diotrefes wat teen die sendelinge was nie. Dit is egter moontlik dat ons ons skouers kan optrek en apaties staan.  Ons stel nie belang in wat op die veld gebeur nie.  Ons jaag hulle nie weg nie, maar nooi hulle ook nie uit om ons te besoek nie.  Ons gee nie om of hulle genoeg geld het nie, en bid nie getrou vir hulle nie.  As hulle vir ons ‘n nuusbrief stuur, lees ons dit nie.  Ek moet bely dat my eie hart in baie opsigte koud is, en dat ek self skuldig staan.  Ons moenie wag dat die Here vir ons ‘n hart gee vir sending nie.  Begin eenvoudig om te gee en jou hart sal volg, “want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Mt.6:21).

 

Demetrius (v.11-12)

Mense is soos skape: as een iets doen is daar ander wat volg.  Jy het seker al gesien hoe skoolkinders deur fases gaan:  eers koop almal gekleurde rekkies, dan versamel hulle sticky’s, en daarna koop hulle albasters.  En so gaan dit.  Omdat dit so is, moet ons seker maak dat ons nie deur slegte mense beïnvloed word nie, maar dat ons die voorbeeld van goeie mense navolg (v.11).  Hierdie reël geld veral wanneer dit by die ondersteuning van sendelinge kom.

 

Ek het gehoor van ‘n Britste teoloog wat nie matte in sy huis gesit het nie, omdat hy die geld wou gebruik om sendelinge te ondersteun. Spurgeon het sy studente aangespoor om siele vir die Here te wen, en het geld uit die verkope van sy preke in Amerika gebruik om die werk te befonds.[3]  Sulke stories behoort ons aan te spoor om vir sending te gee.  Alhoewel ons teks nie sê wat Demetrius se goeie voorbeeld was nie, lyk dit uit die konteks of hy (anders as Diotrefes) ‘n regte ingesteldheid gehad het teenoor sendelinge.

 

Gaius moes nie toelaat dat Diotrefes se slegte voorbeeld hom beïnvloed nie, en moes eerder Demetrius se goeie voorbeeld nagevolg het (v.11, Ps.37:27, 1 Kor.4:16, 11:1, Fil.3:17). Mense wat soos Demetrius goed gedoen het, was van God af (v.11, 1 Jh.2:29).  Hierdie goedheid het nie uit hulle eie harte gekom nie (Rm.3:12, 7:18, Mt.19:17), maar was van God af (Ps.119:68).  Dié wat soos Diotrefes kwaad gedoen het, het nie die oë van geloof gehad om God te sien nie, en was ongered (v.11, 1 Jh.3:6).

 

Demetrius het waarskynlik hierdie brief vir Gaius afgelewer. Hy was betroubaar, en daarom kon Gaius gerus sy goeie voorbeeld nagevolg het (v.11).  Almal wat hom geken het, het van sy goeie karakter getuig (v.12, 1 Tm.3:7, Hd.16:2).  Omdat sy lewe met die Bybel ooreengestem het, het die waarheid sy betroubare karakter onderstreep (v.12).  Gaius kon met ‘n geruste hart Johannes se getuienis aangaande Demetrius geglo het (v.12, Jh.21:24).  Soos wat die Ou Testament vereis het, was daar drie getuies om Demetrius se goeie karakter te bevestig (v.12).

 

Volg die goeie voorbeeld van mense wat sendelinge ondersteun. Dink daaraan dat hierdie mense ‘n skat in die hemel het, terwyl dié wat alles in hulle sakke steek niks met hulle sal saamneem wanneer hulle doodgaan nie (Lk.12:33, Ps.49:17-18).  John D. Rockefeller was een van die rykste mense op aarde.  Toe hy dood is het iemand vir sy boekhouer gevra:  ‘Hoeveel het hy agtergelaat?’  Die klassieke antwoord was:  ‘Alles!’[4]  Toe wyle dr. Martin Holdt hemel toe is, was daar R50 in sy bankrekening.

 

Hoe bly sal jy nie op die oordeelsdag wees as daar honderde mense voor die Here staan, en Hy vir jou sê: ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg!  Deur jou gereelde bydrae het hierdie mense die evangelie gehoor en tot bekering gekom’?  Mense wat in oorvloed vir die Here se werk gee, is buitendien gelukkiger as iemand wat ‘n graansilo vol geld het:  “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” (Hd.20:35).  God is die vrygewigste Persoon in die heelal (Jh.3:16, Ps.145:16).  Ons moet sy voorbeeld volg.

 

Die vriende (v.13-15)

Gedurende my eerste jaar van studies het die studente een aand vir ‘n predikant gaan kuier. Hy was moedeloos en wou die handdoek ingooi.  Ons besoek het hom bemoedig, sodat hy nie opgegee het nie.  Die Here weet wat ons nodig het.  Soms gebruik hy ‘n sms of ‘n woord van waardering, sodat jy moed skep en aanhou.  Om iemand soos Diotrefes in die gemeente te hê moes moeilik gewees het.  Ek is seker dat Johannes se brief vir Gaius gehelp het om moed te skep, en dat dit vir hom perspektief gegee het.

 

Johannes wou nóg geskryf het, maar sou eerder vir Gaius wou sien as om met pen en ink te skryf (v.13-14).  Om van aangesig tot aangesig te praat is baie lekkerder as om iemand se woorde in ‘n brief te lees (2 Jh.12).  Alhoewel ‘n brief nie die beste is nie, was dit vir Gaius so goed soos vars lug in sy longe.  Johannes het vir sy vriend vrede toegebid (v.15, Jh.14:27, 20:19).  Met Diotrefes in die gemeente het hy dit nodig gehad.  Omdat hy ‘n vyand gehad het, sou die nuus van sy vriende se groete vir hom gewees het soos yskoue water op ‘n bloedige dag in die Kalahari (v.15).  ‘Die vriende’ verwys natuurlik na mede-gelowiges (Jh.15:13-15).  Gaius moes ook die vriende in sý gemeente by die naam groet (v.15).  Johannes het nie net in die groep belanggestel nie, maar in elkeen persoonlik.

 

Natuurlik moet ons nie van die sendelinge vergeet nie, maar ons moenie so op die buiteland fokus dat ons die mense wat by die basis werk, afskeep nie. As jy die basis afskeep sal die soldate wat in die veld is ook daaronder gebuk gaan.

 

Dit moenie een persoon se taak wees om met die sendelinge kontak te hou nie. Verklaar jouself bereidwillig om te help, sodat ander kan rus en hulle batterye kan herlaai.  Ons moet vir mekaar bid dat ons nie verslap nie (v.15, 2).  Ons moet saamkom, sodat ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade (v.14, Hb.10:24-25).  Ons moet mekaar aan 1 Kor.15:58 herinner:  “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”

 

Party koshuis kinders se huislike omstandighede is so sleg, dat hulle nie huistoe wil gaan nie.  Die koshuis lewe is moeilik, maar om by die huis te wees is erger.  Dit moenie so wees vir sendelinge nie.  Die sendingveld is moeilik genoeg.  As hulle na die basis toe terugkeer, moet dit vir hulle lekker wees.  As hulle ‘n paar maande later na die sendingveld toe terugkeer, moet hulle weggaan met die volle wete dat ons hulle finansieel en in gebed sal ondersteun.

 

[1] Autobiography: vol.2, p.108

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: part 2, pp.317-325

[3] Ibid, p.99

[4] Randy Alcorn, The Treasure Principle, pp.17-18

Hoe om jou regte te gebruik

Human rights

In die Moslem-wêreld het vroue nie regte nie.  Sura 4:24 in die Qur’an sê:  ‘…As to those women on whose part ye fear disloyalty and ill-conduct, admonish them [first], [next], refuse to share their beds, [and last] beat them [lightly]…’

 

Die teenoorgestelde gebeur in die weste:  elkeen veg vir sy regte.  Baie mense staak vir meer geld.  Party beskou dit as hulle reg om gratis behuising te hê met elektrisiteit en lopende water.  In skole leer kinders dat hulle regte het:  hulle mag nie gedissiplineer word nie.  As jy net aan hulle raak, sal hulle jou by die onderwysdepartement aangee.  Selfs misdadigers het regte wat nie oortree mag word nie.

 

Die Bybel sien nie sonde oor omdat ons regte het nie.  ‘n Getroue Christen is selfs bereid om geldige regte prys te gee vir God se eer, gelowiges se geestelike welvaart, en ongelowiges se redding.  Dis Paulus se punt in 1 Korintiërs 9.

 

Paulus verdedig sy regte (v.1-14)

Ek weet van ‘n kerk met ‘n paar ryk mense wat ‘n leraar soek.  Die leraar moet sy eie huis en kar voorsien.  Die kerk sal vir hom ‘n salaris van R2000 per maand betaal.  Die Bybel sê egter dat evangelie-werkers die reg het om ordentlik betaal te word (v.1-14).

 

Paulus was ‘n ooggetuie van die opstanding (15:8, Handelinge 9).  Sy preke het bose sondaars in Korinte in nuwe mense verander (2 Korintiërs 3:2).  Dít bewys dat hy ‘n ware apostel was wat die ware evangelie verkondig het (v.1-3).

 

As apostel het hy net soos die ander apostels, Jesus se broers, en Petrus die reg gehad op ‘n padkos-toelaag, ‘n vrou as hulp, sendingreisgeld vir sy vrou, en ‘n salaris uit die gemeentes waar hy gepreek het (v.4-6, Lukas 10:7, 2 Tessalonisense 3:8-9).  Die soldaat kry ‘n salaris, die wynboer deel in die oes, en die herder drink van die bokke se melk (v.7).  Net so moet die Here se soldaat (2 Timoteus 2:3-4), kerkplanter (3:6-8), en geestelike herder (1 Petrus 5:2) betaal word.

 

Paulus sê hierdie dinge nie op menslike gesag nie.  God sê so.  In die Ou Testament het koringboere ‘n os gebruik om die meulsteen oor die koring te rol.  Die os se bek mag nie toegebind word nie.  Hy moet van die koring kan eet terwyl hy dit fyn maal (Deuteronomium 25:4).  Dié beginsel geld ook vir evangelie-predikers (v.9-10, 10:11, 1 Timoteus 5:18, Romeine 15:4, 27).  Paulus het die kerk in Korinte geplant.  As hy geestelik gesaai het, mag hy sekerlik geldelik maai en in die vrug deel (v.11-12a, 2 Timoteus 2:6).

 

Maar Paulus sou eerder sy reg op ‘n salaris prysgee, as om ‘n geleentheid vir evangelie te laat verbygaan (v.12b).  Niemand moet kan sê:  ‘Ons het nie die evangelie gehoor nie, want ons kon jou nie bekostig nie.’  Die priesters in die Ou Testament het uit die volk se tiendes en offers geleef en geëet (v.13, Deuteronomium 18:1, Numeri 18:21).  As Paulus wou, kon hy dieselfde gedoen het (v.14, Matteus 10:10).

 

Paulus begewe sy regte (v.15-27)

Ek ken ‘n predikant wat ryk geërf het en slim is met geld.  Hy het vir hom 4×4’s, sport karre, ‘n jaccuzi, ‘n toer motorfiets, en duur ‘speelgoed’ gekoop.  ‘Is dit sonde?  Het hy nie die reg om sy geld te gebruik soos hy wil nie?’ wonder iemand.  Die mense in sy gemeente kan nie so leef nie.  Daarom sou dit beter gewees het as hy, soos Paulus, sy regte prysgegee het (v.15-27).

 

Paulus het sy regte begewe.  Hy het – ook toe hy in Korinte was – tente gemaak vir ‘n inkomste (Handelinge 18:3).  Sy doel met v.1-14 was nie om vir geld te skimp nie (v.15a).  Hy sou sterf eerder as om die evangelie te verkoop (v.15b).  “Want in my gebrek het die broeders voorsien wat van Macedónië gekom het.  En ek het my in alles in ag geneem om julle nie te beswaar nie, en ek sal my in ag neem.  So seker as die waarheid van Christus in my is, sal hierdie roem in die streke van Acháje my nie ontneem word nie.” (2 Korintiërs 11:9-10).  Jesus het gesê:  “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” (Matteus 10:8).

 

Moet hom nie misverstaan nie.  Paulus roem nie in sy amp of vaardigheid om te preek nie.  Om die evangelie te preek is sy plig (v.16).  Hiervoor het Jesus hom geroep (Handelinge 9:6, 15).  Soos die ander apostels en Jeremia, kon hy nie anders as om te preek nie (Handelinge 4:20, Jeremia 20:9).  As hy stilgebly het en nie gepreek het nie, sou die Here hom straf (v.16, Jakobus 3:1).  Paulus het nie self sy preekloopbaan gekies, met die doel om geldelike loon te kry nie (soos moderne Prosperity predikers).  God het vir Paulus geroep om ‘n rentmeester van die kosbare evangelie te wees.  Sy beloning was dus om die evangelie gratis en sonder betaling te preek (v.17-18).

 

Paulus het nie ‘n salaris getrek nie, en was dus vry van die houvas van enige kerk of individu (v.19, vgl. Spreuke 22:7).  Tog het hy homself ‘n dienaar van almal gemaak, sodat hy baie vir die evangelie kon wen (v.19).

 

[1] Hy was vry van die wet, maar het soos ‘n Jood geword om dié wat onder die wet is te wen (v.20).  Hy het nie geglo dat die besnydenis, offers, of die Nasireër-gelofte enigiets tot sy redding bydrae nie.  Tog sou hy dié praktyke beoefen om aanklank by die Jode te vind, sodat hulle ontvanklik sou wees vir die evangelie (Handelinge 16:3, 18:18, 21:26).

 

[2] Vir die heidene sonder die wet sou hy word soos een sonder die wet om hulle te wen (v.21, Galasiërs 2:3, 14).  Hy bedoel nie dat hy wetteloos sou word nie, want hy was immers onder die wet van Christus (Galasiërs 6:2):  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

 

[3] Vir die swakkes sou Paulus sy regte opgee, sodat hulle geestelik sterker kon word (v.22).  “Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.” (8:13).  “net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.” (10:33).

 

Paulus sou sy regte prysgee om mense vir die Here te wen.  Vir hom was die seën wat die evangelie bring (Efesiërs 1:3-14) belangriker as sy regte (v.22-23).

 

Die Korintiërs was bekend met die Isthmian spele wat elke paar jaar in hulle stad gehou is.  Paulus het dié beeld gebruik om te sê dat hulle moes hardloop om die prys te behaal:  ‘n ewige kroon en nie net ‘n blarekrans wat gou verlep nie (v.24-25, 2 Timoteus 4:8, Jakobus 1:12, 1 Petrus 5:4).  Om dit reg te kry moes hulle, soos goeie atlete, hulleself dissiplineer (v.25, 2 Timoteus 2:5).  Hulle moes nie net van sonde ontslae raak nie, maar ook van wettige plesiere wat hulle kon terughou (Hebreërs 12:1).

 

Goeie atlete het ‘n doel waarvoor hulle hardloop (v.26).  So moes die Korintiërs Jesus vooroë hou in die lewenswedloop (Hebreërs 12:2).  Hulle moes nie skadu-boksers wees nie, maar moes die teiken raak slaan (v.26).  So sou hulle enduit kon volhard soos Paulus (2 Timoteus 4:7).

 

Paulus het vir hulle ‘n voorbeeld gestel.  Hy het vir sy sondige vlees ‘n blou oog gegee, en was bereid om sy regte op te gee (v.27).  As hy dit nie gedoen het nie, sou sy vlees makliker die oorhand kon kry.  Hy sou dus makliker in sonde kon val en gediskwalifiseer word.  So sou hy sy wedloop in die evangelie-bediening moes opgee en sy hemelse beloning verloor (v.27, vgl. 3:15).

 

Begewe jou regte vir Jesus.  Wat is jou regte?  Jy het nie die reg om sonde te doen nie.  Jy is vry om die gawes te geniet wat God gee:  geld, kos, vakansies, die huwelik, wyn, sport, en baie meer (1 Timoteus 6:17).

 

Tog kan jy jou regte prysgee om ongelowiges te wen en swak gelowiges se groei te bevorder (v.19-23).  Hier is ‘n paar voorbeelde:

 

  • Ek ken verskeie sendelinge wat hulle gemaklike lewens in die weste gelos het vir ‘n ander kultuur in ‘n derde wêreld land.
  • Een vriend is bereid om Nike tekkies en teëlvloere prys te gee, omdat die mense onder wie hy werk dit nie kan bekostig nie.
  • Martyn Lloyd-Jones was die mediese-assistent vir koningin Elizabeth se geneesheer. Hy sou waarskynlik sy baas se opvolger wees. Hy het dit vir die evangelie-bediening verruil.
  • John Paton het ‘n groeiende bediening in Skotland gehad. Hy het dit agtergelaat om ‘n sendeling na die kannibale van die New Hebrides te word.
  • My vriend het sy groeiende besigheid en plaaslewe gelos om onder die plakkers te werk.
  • ‘n Bekende berader se vrou het haar familie in Amerika agtergelaat om in Suid-Afrika te kom werk. Haar buurvrou in Suid-Afrika het gevra: ‘Is jy nie lief vir jou kleinkinders nie? Hoe kan jy dit aan hulle doen?’ Haar antwoord was: ‘Ek is lief vir my kleinkinders, maar ek is liewer vir Jesus.’
  • ‘n Kollega het sy veearts kliniek gelos, sy huis en sy kar verkoop om teologie te studeer.
  • ‘n Afgetrede leraar het sy lewe lank die evangelie gratis verkondig. Hy was die predikant van verskeie kerke, maar het – uit eie keuse – nooit ‘n salaris gekry nie.
  • ‘n Vriend van my het sy werk by Edgars gelos om die evangelie met kinders te deel. Hy het nie ‘n vaste inkomste gekry nie.
  • ‘n Paar Suid-Afrikaanse predikante het geld Zambië toe gestuur om vir Conrad Mbewe ‘n kar te koop. Hy was dankbaar, maar het die geld teruggestuur. ‘Ek kan nie ‘n kar ry as die meeste van my lidmate loop of fietsry nie,’ het hy gesê.
  • Howell Harris het besluit om nie te trou nie, sodat hy vryer kon wees om op preektoere te gaan.
  • ‘n Amerikaanse paartjie in Johannesburg het gekies om in hierdie slegte land aan te bly, sodat hulle mense vir die Here kan wen.

 

Baie mense sal sê dis onverantwoordelik.  Ander sal sê om jou regte prys te gee is wetties (bv. as jy wyn opgee om ‘n swakker broer te wen).  Wees tog versigtig dat jy nie verwag dat almal dieselfde regte as jy moet prysgee nie.  Moet dit nie afdwing as ‘n reël nie.  Moenie dink dat iemand wat ‘n BMW ry, besluit om te trou, bier drink, of aanhou om in die sekulêre sektor te werk, minder geestelik is as jy nie.

 

Sal jy jou regte prysgee om ander te wen?  Sal jy vanjaar jou kersboom afslaan, ophou om alkohol te gebruik (8:13), of elke Sondag ‘n das dra as jy daareur jou broer kan wen?  Sal jy spek opgee om ‘n Moslem te wen?  Sal jy jou restaurant-ete met die direkteure prysgee om saam met die ‘tea lady’ toebroodjies te eet, sodat jy haar vir die Here kan wen?

 

Sal jy jou geselsies met mede-Afrikaners prysgee, sodat jy mense van ‘n ander taalgroep kan bevriend om hulle vir die Here te wen?  Sal jy ‘n kleiner kar koop, sodat jy die ekstra geld vir sending kan gee?  Sal jy jou vakansie opoffer om die evangelie in Mosambiek te preek?  Dalk is jy nie bereid om jou regte prys te gee nie.  Maar is dit regtig so erg as jy nie jou regte kan uitleef nie?

 

Hoekom moet jy bereid wees om jou regte prys te gee?  Selfverloëning is deel van wat dit beteken om Jesus te volg:  “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” (Lukas 9:23).  Jesus het sy regte – sy hemelse rykdom – prysgegee om ons te red (2 Korintiërs 8:9, Filippense 2:6-8).  En sal ons nie in sy voetspore volg nie?

 

‘n Klomp jare gelede was daar ‘n populêre lied wat die wêreld se idee oor mense regte opgesom het.  Die woorde het so gegaan:  ‘You’ve got to fight… for your right… to party!’  Ongelowiges sal vir hulle regte sterf.  Vir hulle gaan die lewe oor hulleself en hulle eie gemak.  Vir Christene gaan die lewe oor Jesus en liefde vir hulle naaste.  In watter kamp is jy?  Sal jy jou regte en lewe prysgee om Jesus te verheerlik deur ander vir Hom te wen?

Hoe God sy vyande gebruik om die evangelie te bevorder

Dandelion in storm

Martin Luther het gesê:  ‘The devil is God’s devil.’  Luther het bedoel dat die duiwel slegs kan doen wat God toelaat; dat God die duiwel gebruik om sy wyse raadsplan te bevorder (cf. Job 1:12, 2:6).  Dít is die les van Handelinge 16.

 

In die straat (v.16-24)

 

16 En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het. 17 Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê:  Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing. 18 En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê:  Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan. 19 En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep 20 en hulle voor die regters gebring en gesê:  Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is, 21 en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is. 22 En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan. 23 En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak. 24 Hy het toe, omdat hy so ‘n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak.”

 

Paulus en sy span het by Lidia se huis geëet en geslaap (Lydia’s Bed & Breakfast?).  In die dag het hulle rivier toe gegaan om te preek (v.15-16, 13).  ‘n Vrou met ‘n waarsêende gees het hulle gevolg.  Die Griekse teks praak letterlik van ‘n python-gees (ja, ‘python’ soos in luislang).  Die Grieke het geglo dat die god Apollo in die vorm van ‘n luislang gekom het om sy tempel te beskerm.  Soos ‘n buikspreker het hy gepraat deur die vroue wat hom aanbid het.  In húlle denke was dit hý wat deur hierdie slavin die toekoms voorspel het (v.16).  Maar Paulus het geweet die slavin het ‘n demoon in haar gehad.  Demone weet wat jy vir ontbyt geëet het en hoe jou oupa-grootjie lyk.  Geen wonder dat iemand met so ‘n gees vir jou sulke dinge kon vertel nie.  Die slavin het die inwoners van die stad verstom.  Haar eienaars het goed geld gemaak (v.16).  Die demoon het geweet dat Paulus en sy span evangelie predikers is (v.17-18, Lukas 4:34, 41).  Hy het aanhoudend deur die vrou uitgeroep:  “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.” (v.17).  Paulus was ontsteld en het vir die demoon gesê:  “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan.” (v.18).  Die demoon het dadelik uit die vrou uitgegaan.  Probeer Lukas vir ons sê dat God die vrou gered het?  Dit mag wees, want in Lukas-evangelie skryf hy:  “En daarna het Hy die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig; en die twaalf was saam met Hom, ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes:  Maria wat Magdaléna genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het” (Lukas 8:1-2).

 

Nadat die demoon die slavin verlaat het, kon haar eienaars nie meer wins maak nie.  Hulle was woedend en het vir Paulus en Silas (die twee Jode in die span) mark toe gesleep en voor die regters gebring (v.18-19).  Die eienaars het gejok en gesê dat die sendelinge opstand veroorsaak het en Filippi (die trotse Romeinse stad) se sedes wou verander.  Die skare het hulle aangerand en die regters het opdrag gegee dat hulle met stokke geslaan moes word (2 Korintiërs 11:25).  Die Romeine het nie net 39 houe gegee soos die Jode nie, maar het geslaan tot hulle moeg was.  Die regters het vir die tronkwag opdrag gegee om hulle in die tronk te sit, en hulle bene uitmekaar te rek en in die martelblok vas te maak (v.20-24).

 

Die duiwel wou die Filippense van Christenskap afsit toe hy deur die slavin uitroep:  “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.” (v.17).  Die teenoorgestelde het gebeur:  hy het die nuus versprei dat hulle sendelinge is, aandag na die evangelie toe getrek, belangstelling by nuuskieriges geprikkel, en die tronkwag voorberei om die evangelie te hoor.  Hoekom anders sou die wag later vir Paulus en Silas vra:  “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” (v.30).  Hoe het hy geweet húlle kan hom help?  Het hy nie gehoor hoe die demoon in hierdie vrou sê dat hulle die weg van verlossing verkondig nie? (v.17).  Verder het God die ongelowige eienaars, regters, skare en soldate se woede vir Paulus-hulle se voordeel gebruik.  Jesus belowe ‘n spesiale beloning aan dié wat vir sy Naam moet ly (Matteus 5:10-12).  Wanneer die Here ons laat ly, word ons ook meer heilig:  “Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word.  Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” (Hebreërs 12:10-11).

 

As Jesus die duiwel só gebruik om die evangelie te bevorder, is dit twak dat ‘gebiedsgeeste’, die vrymesselaars of ander vyande Hom kan keer.  Deur sy kruisdood het Jesus reeds die duiwel oorwin:  “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” (1 Johannes 3:8).  “Jesus het die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kolossense 2:15).  Op Golgota het God die duiwel en goddelose mense gebruik om sy plan te vervul:

“Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.” (4:27-28).  In 8:1-4 het God die duiwel en briesende ongelowiges gebruik om die evangelie te versprei:  “En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur.  En daar het in dié tyd ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels.  En godvresende manne het Stéfanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedrywe.  Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.  En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.”  Die evangelie is waarlik die krag van God tot redding.  As die Here iemand wil red sal niemand Hom keer nie.  Hy sal selfs die duiwel en die wêreld gebruik om die evangelie te bevorder.

 

My gunsteling aanhaling van Charles Spurgeon sê dit mooi:

 

“We serve an almighty Master… If our Lord does but stamp His foot, He can win for Himself all the nations of the earth against heathenism, and Mohammedanism, and Agnosticism, and Modern-thought, and every other foul error.  Who is he that can harm us if we follow Jesus?  How can His cause be defeated?  At His will, converts will flock to His truth as numerous as the sands of the sea… Wherefore be of good courage, and go on your way singing.” (An All Round Ministry, Banner of Truth, EDINBURGH, pp. 395-396).

 

In die tronk (v.25-40)

 

25 En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister. 26 En skielik kom daar ‘n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het.  En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak. 27 En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy ‘n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het. 28 Maar Paulus het met ‘n groot stem geroep en gesê:  Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier. 29 En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer. 30 En hy het hulle na buite gebring en gesê:  Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31 Toe sê hulle:  Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. 32 En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. 33 En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense. 34 Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle ‘n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.

 

35 En toe dit dag word, stuur die regters die geregsdienaars en sê:  Laat daardie manne los. 36 En die tronkbewaarder het hierdie woorde aan Paulus oorgebring:  Die regters het laat weet dat julle losgelaat moet word; gaan dan nou uit en reis in vrede! 37 Maar Paulus sê vir hulle:  Hulle het ons in die openbaar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is, en ons in die gevangenis gewerp, en wil hulle ons nou in die geheim uitwerp?  Volstrek nie!  Laat hulle self kom en ons uitlei. 38 En die geregsdienaars het hierdie woorde aan die regters oorgebring, en dié het bang geword toe hulle hoor dat hulle Romeine was. 39 Daarop het hulle gekom en hulle gesmeek en uitgelei met die versoek om uit die stad te vertrek. 40 En nadat hulle die gevangenis verlaat het, het hulle na die huis van Lídia gegaan; en hulle het die broeders gesien, hulle bemoedig en weggegaan.”

 

Die sendelinge was seer geslaan, sodat hulle nie kon slaap nie.  Hulle het besluit om lofliede te sing en tot die Here te bid.  Die res van die gevangenes was sekerlik verbaas en het in doodste stilte na hulle geluister (v.25).  Skielik was daar ‘n aardbewing.  Die boeie is losgeskud en die tronkselle se deure het oopgeswaai (v.26).  Die tronkwag het wakker geskrik.  In die donker kon hy die oop tronkdeure sien, maar niemand in die selle nie.  Hiervoor sou hy die doodstraf kry (12:19).  Hy het besluit om liewer sy eie lewe te neem (v.27).  Toe hy sy swaard trek het Paulus sy silhoeët gesien en besef wat aangaan.  ‘Moet jouself nie doodmaak nie,’ het hy geskreeu, ‘ons is almal hier!’ (v.28).  Die wag het dadelik vir ‘n lig gevra.  Die aarde het opgehou skud, maar hy het nie.  Hy het gebewe uit vrees vir God se oordeel (v.29).  Die tronkwag het geweet waar om hulp te kry.  Paulus en Silas kon vir hom sê hoe om gered te word (v.17).  Hy het gehoor hoe hulle, te midde van hulle lyding, die Here prys (v.25).  Hy het toe bewend voor hulle neergeval en gevra:  “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” (v.30).

 

Sy voorbeeld wys duidelik vir ons dat daar geen redding kan wees, tensy daar nie eers ‘n diep sondebesef is nie.  Paulus en Silas het die evangelie met hom gedeel (v.31):

 

  • Hy moes in Jesus glo en vertrou. Wat moes hy glo?
  • Hy moes glo dat Jesus die Verlosser is. Dit is immers wat sy Naam beteken (Matteus 1:21). Hy moes glo dat Jesus ons van sonde en God se oordeel kom red het, deur in ons plek die straf te dra.
  • Hy moes glo dat Jesus die opgestane Here is; die Meester aan wie ons gehoorsaam moet wees. Hy, nie die keiser nie, is die enigste Here.
  • Hy moes glo dat Jesus God is. In v.34 is die tronkwag en sy hele gesin bly, omdat hy in God geglo het. In v.31 sê Paulus hy moet in Jesus glo.

 

Paulus het Silas het nog baie evangelie-waarhede met hom en sy huisgesin gedeel (v.32).  Die vrug van bekering was onmiddellik sigbaar.  Hy het die sendelinge se wonde gewas en vir hulle kos gegee om hulle swak liggame mee te versterk.  Hy was vol van blydskap (deel van die vrug van die Gees, cf. Galasiërs 5:22).  Hy het die Here se opdrag om gedoop te word, gehoorsaam.  Die tronkwag se huis was bo-op die gevangenis gebou.  ‘n Tipiese Romeinse huis het ‘n groot bad in die binnehof gehad.  Paulus sou die tronkwag en sy gesin hiér gedoop het.  Baie predikers het al probeer om die kinderdoop uit hierdie verse te regverdig.  Maar die teks sê vir ons dat sy hele gesin die Woord gehoor en geglo het; dat sy hele gesin bly was.  Die gesin wat dus hier gedoop was het verseker nie babas ingesluit nie.

 

Die volgende dag het die regters die polisie gestuur om hulle vry te laat (v.35-36).  Die Griekse teks praat letterlik van ‘stokdraers’.  Die eindste mans wat hulle geslaan het, het nou gekom om hulle vry te laat.  Die nuut-bekeerde tronkwag was bly en het vir Paulus-hulle kom sê.  Paulus se reaksie was bot:  ‘Ons is Romeinse-burgers.  Hulle weet tog dat geen Romeinse burger sonder ‘n regverdige verhoor geslaan en in die tronk gegooi mag word nie.  Sê vir hulle om self hierheen te kom, verskoning te vra, en ons uit te lei.’ (v.37-39).  Het Paulus probeer om sy gewonde ego te streel?  Het hy op sy menseregte gestaan?  Nee.  [1] Hy het dit gedoen vir die evangelie se onthalwe.  As die regters verskoning kom vra en hulle uitgelei het, sou baie mense besef het dat sendelinge nie misdadigers is nie.  Hulle sou dan begin uitvra oor hierdie evangelie.  [2] Hy het dit gedoen vir die tronkwag se onthalwe.  Die tronkwag moes sien dat Christenskap nie ongeregtigheid goedkeur nie.  [3] Hy het dit gedoen vir die kerk in Filippi se onthalwe.  Hy wou nie hê dat hulle dieselfde vervolging as hy en Silas moes lei nie.

 

Voordat hulle die stad verlaat het, het Paulus en Silas na Lidia huis toe gegaan.  Die term ‘broers’ dui aan dat daar nóg Christene bygekom het.  Het sý vir ander vertel hoekom hulle in die tronk is?  Het hulle deur háár getuienis tot bekering gekom?  Nadat hulle die gelowiges bemoedig het, het hulle vir Lukas in Filippi gelos om die nuwe bekeerlinge te help.  Ons weet dit, omdat v.40 sê ‘hulle’ het die stad verlaat (cf. ons in v.10-17).  Eers weer in 20:5 praat Lukas van ‘ons’.

 

God se vyande het vir Paulus en Silas in die tronk gegooi (v.16-24).  Die Here het dit gebruik om die tronkwag te red (v.30-34).  Hy het nóg mense gered deur Lidia wat vertel het hoekom hulle eintlik in die tronk is (v.40, sien Filippense 1:14 vir dieselfde beginsel).  Dit mag wees dat die Here sommige van die ander gevangenes gered het toe hulle hoor hoe Paulus en Silas sing en bid (v.25).  God het ook die regters gebruik om sy saak te bevorder (v.37-39).  Die eindste Filippense wat hulle aangerand het, het later tot bekering gekom.  Paulus het hom hieroor verbly en was verseker dat God die werk wat hy begin het, in hulle sou voleindig (Filippense 1:3-6).  Die Here gebruik waarlik sy vyande om die evangelie te bevorder:  “En ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het, sodat my boeie openbaar geword het in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander” (Filippense 1:12-13).

 

Die vyand haat dit as jy die evangelie verkondig.  Om jou stil te maak sal hy dalk vir die Here toestemming vra om jou siek te maak.  Maar sy planne sal misluk.  As jy in ’n hospitaal beland mag God dalk net deur jóú getuienis die dokter, verpleegsters, of ander passiënte tot bekering bring.  Dalk kry die duiwel toestemming om Christene in die tronk te laat beland.  Maar ook dáár sal God sy evangelie bevorder.  ‘n Paar van die briewe in ons Nuwe Testament is uit die tronk geskryf.  John Bunyan was in die tronk toe hy 58 Christelike boeke (onder ander The Pilgrim’s Progress) geskryf het.  Die duiwel hits ongelowiges aan om Christene voor die hof te bring.  Maar dáár kry hulle geleentheid om die evangelie te deel en van Jesus te getuig (hfst.26).  Partykeer hits die duiwel Moslems of Kommuniste aan om Christene dood te maak.  Selfs só kan hulle nie die evangelie keer nie.  Die dood van Christen martelare maak ‘n indruk op die toeskouers, sodat sommige van hulle tot bekering kom.  Die nuus van hulle dood versprei, sodat die evangelie selfs in koerante vertel word.  Wanneer ‘n koringkorrel sterf, bring dit baie vrug voort (Johannes 12:24).

 

In 1415 het ongelowiges vir Johannes Hus verbrand.  Hulle het sy as in die Rynrivier gegooi.  Maar jy kan nooit die evangelie met vuur verteer of met water blus nie.  Deur hom dood te maak het hulle eenvoudig die evangelie bevorder.  Dit is soos om ‘n Dandelion met ‘n grassnyer af te sny:  jy versprei net die saad.  So is dit as God se vyande die evangelie probeer stilmaak:  hulle versprei dit net verder.

Bemoediging vir Christen-werkers

Lashing Paul

In die kerk waarin ek grootgeword het, was ons predikant op ‘n tyd baie ontmoedig en wou hy bedank.  Een Sondag het hy vir die kerk gesê hoe die Here hom bemoedig het, sodat hy kans gesien het om aan te gaan.  Dit is wat in Handelinge 16 gebeur het:  die Here het die sendelinge bemoedig, sodat hulle kon aanhou werk.

 

Spanmaats en kerkgroei (v.1-5)

 

1 En hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was ‘n dissipel met die naam van Timótheüs, seun van ‘n gelowige Joodse vrou, maar van ‘n Griekse vader. 2 Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium. 3 Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader ‘n Griek was. 4 En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou. 5 En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.”

 

Paulus het teruggegaan Listre en Derbe toe om die nuwe bekeerlinge te bemoedig (sien hfst.14).  In Listre was daar ‘n jong bekeerling genaamd Timoteus.  Sy ma, Eunice, was ‘n gelowige Jood en sy pa ‘n ongelowige Griek (v.1, 2 Timoteus 1:5).  Sy ma en ouma het die evangelie met hom gedeel, maar Paulus was die geestelike vader deur wie hy tot bekering gekom het (2 Timoteus 1:2, 5, 3:14-15, 1 Korintiërs 4:15, 17).  Die gemeentes het net goeie dinge van Timoteus te sê gehad (v.2).  Dít is die tipe mense wat jy in jou span soek:  nie net mense wat gretig en bereidwillig is nie, maar mense met karakter wat geskik is vir die taak.

 

‘n Mens hoef nie besny te wees om gered te word nie, en Paulus het dit geweet (hfst.15).  Maar as hy nie vir Timoteus besny het nie, sou die Jode nie na hulle prediking geluister het nie.  Dit was dan vir evangelisasie doeleindes wat hy hom besny het (v.3):  “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win.  Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win.  Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus—om die wat sonder die wet is, te win; vir die swakkes het ek soos ‘n swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red.  En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ‘n deelgenoot daarvan kan word.” (1 Korintiërs 9:19-23).

 

In hfst.15 het die Jerusalem-Raad ‘n brief geskryf om te sê dat die heidene gered kon word sonder dat hulle besny is.  Toe Paulus en Silas dié brief vir die gemeentes voorgelees het, was hulle bemoedig.  Buiten dat hulle geestelik versterk is, het nóg mense tot bekering gekom en by die gemeentes aangesluit (v.4-5).

 

Ek het twee Amerikaanse vriende op die sendingveld.  Hulle het al dikwels gesê hoe hulle bemoedig word deur mekaar se teenwoordigheid.  Jesus het goed geweet dat sy werkers hierdie tipe bemoediging nodig het.  Daarom het hy hulle twee-twee uitgestuur (Lukas 10:1).  Om dieselfde rede het Paulus spanmaats soos Silas en Timoteus gekies.  Kies vir jou iemand van dieselfde geslag wat jou sal aanmoedig om heilig te lewe en getrou te dien.  Bid ook dat die Here sy kerk sal bemoedig deur numeriese en geestelike groei (v.5).

 

Leiding en voorsienigheid (v.6-10)

 

6 En hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig. 7 En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie. 8 So het hulle dan Mísië verbygegaan en na Troas afgekom. 9 En Paulus het ‘n gesig in die nag gesien—daar staan ‘n Macedóniër wat hom smeek en sê:  Kom oor na Macedónië en help ons! 10 En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig.”

 

Paulus en sy span wou in Asië preek, maar die Heilige Gees het hulle gekeer.  Hulle wou in Bithinië preek, maar vir ‘n tweede maal het die Gees hulle gekeer.  Van Bithinië af is hulle Troas toe in Noord-Wes Turkye (v.6-8).  Daar het Paulus ‘n visioen gehad van ‘n Macedoniese man wat wou hê dat hy en sy span hulle moes help.  Nóú het Paulus verstaan hoekom die Gees hulle planne gekeer het.  In v.10 word ‘hulle’ vervang met ‘ons’, wat aandui dat Lukas by Paulus en sy span aangesluit het.

 

Drie lesse staan uit in hierdie verse:

 

[1] Die Heilige Gees is soewerein om te werk waar en wanneer Hy wil; in Macedonië eerder as in Asië of Bithinië:  “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.  So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Johannes 3:8).

 

[2] Die Heilige Gees lei ons deur voorsienigheid; deur oop en toe deure.  Hy maak deure toe om ons te verhinder en maak deure oop om ons vorentoe te neem.  Hy lei ons deur die direkte openbaring van die Skrif.  Anders as Paulus het ons ‘n volkome Bybel.  Ons hoef nie te wag dat die Gees ons deur drome of visioene hoef te lei nie.  Hy lei ons wanneer ons die betrokke saak met ander gelowiges bespreek het (‘ons was versekerd’, v.10).  Hy lei ons wanneer ons aktief gehoorsaam is, en nie wanneer ons passief rondsit nie.  Om die Here se wil te ken moet al hierdie faktore saamwerk.  As ons een van hulle uitlos, beland ons in dieselfde gemors as Jona wat ‘n oop deur gehad het, maar buite God se wil was.

 

[3] Die Here stuur soms Christene oor ons pad wat ons help om meer effektief te dien.  Hy het vir Lukas oor Paulus se pad gestuur.  Lukas was ‘n mediese dokter wat die span kon help.  Hy het ‘n joernaal van Paulus se sendingreise gehou en die boek Handelinge geskryf.  Hy het ook inligting versamel om Lukas-evangelie te skryf.

 

Weergeboorte en voorsiening (v.11-15)

 

11 Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis, 12 en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, ‘n kolonie.  En ons het in hierdie stad ‘n paar dae deurgebring. 13 En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ‘n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het. 14 En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. 15 En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê:  As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar.  En sy het ons gedwing.”

 

Die span wou nie in die nag seil en tussen rotse beland nie.  Daarom het hulle op die eiland van Samothráce oornag.  Die volgende dag het hulle Neapolis toe geseil en die paar kilometer na Filippi toe afgelê (v.11-12).  Filippi was ‘n baie belangrike stad in Griekeland; een van die vier belangrikstes in die Macedonië provinsie.  Die Gees wou die evangelie soontoe neem, sodat dit maklik na die res van die omgewing toe kon versprei.  Die stad is vernoem na Alexander die Grote se pa, Filippus II.  Hy het in 359 v.C. koning van Macedon geword.  Hy het gesien dat die omgewing groen en vrugbaar was, en dat daar baie goud was.  In 31 v.C. het Octavius en Mark Antony hiér teen Julius Caesar se moordenaars, Brutus en Cassius, geveg.  Ná hulle oorwinning het Octavius (later Augustus genoem) Filippi tot ‘n Romeinse kolonie verklaar.  Die inwoners van die stad was Romeinse burgers wat self kon stem, hulle eie regters kon aanstel, en geen belasting betaal het nie (v.21).

 

Toe die Sabbat aanbreek het Paulus en sy span na die Gangites rivier buite Filippi gegaan (v.13).  Omdat daar nie genoeg Joodse mans was nie, was daar nie ‘n sinagoge nie, maar het dít die gebedsplek geword.  ‘n Klompie vroue het bymekaar gekom.  Een van hulle se name was Lidia.  Sy was ‘n godvresende vrou wat nie-amptelik die Joodse geloof aangeneem het.  Sy het duur purper klere uit Tiatire aan die rykes en adelikes verkoop (v.14).  Terwyl Paulus besig was om te preek het God haar hart en verstand geopen om te verstaan (v.14).  Weereens is dit duidelik dat God soewerein is in die redding van sondaars.  Petrus praat van God wat “ons die wedergeboorte geskenk het” (1 Petrus 1:3, cf. Johannes 3:8).  Jesus se woorde was:  “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).  Lidia en haar huisgesin is gedoop.  Haar gasvryheid en mededeelsaamheid was tekens dat sy waarlik weergebore was (v.15).

 

God red nie altyd 3000 mense op een dag nie (2:41).  Partykeer red Hy een persoon of ‘n gesin (v.14-15).  Moenie dink dat ‘n klein begin niks is nie (Sagaria 4:10).  Moenie mense se wil of emosies manupileer, omdat jy getalle najaag nie.  Jy kan niemand se hart verander nie.  Net Gód kan.  Moet dan nie alewig nuwe metodes uitdink om mense tot bekering te probeer manupileer nie, maar bid en bid en bid en preek.  Moenie bekering in ‘n blik wil druk, sodat jy dink dat iemand wat nie volgens jóú reëls gered is, nie ‘n ware Christen is nie.  Nie almal huil as hulle tot bekering kom nie.  Nie almal het ‘n dag en datum nie.  Nie almal verander soos dag en nag nie.  Daar was ‘n groot verskil tussen Lidia en die tronkwag se bekerings.  Lidia was ‘n ryk morele vrou wat die waarheid gesoek het.  Die tronkwag was ‘n middelklas geharde man.  Lidia se bekering was soos die son wat opkom:  dit het geleidelik lig geword vir haar.  Die tronkwag se bekering was soos wanneer mens ‘n lig aanskakel:  een oomblik was dit donker en die volgende oomblik het die lig in sy hart geskyn.  Die tronkwag het die presiese oomblik van sy bekering geken.  Lidia kon waarskynlik nie dieselfde gedoen het nie.

 

Ons is nie almal predikers nie.  Maar al preek jy nie kan jy nogsteeds vir die Here werk.  Jy kan jou geld, kos, huis, tyd, vervoer, ensovoorts gebruik om die Here se werk te ondersteun (v.15).  As jy dalk gedink het om op te gee met Jesus, die lewe, die kerk, jou gesin, jou huwelik, jou werk, ensovoorts, hoop ek hierdie preek bemoedig jou.  Moenie opgee nie, maar hou aan in die Here se werk.  In Joel Beeke se woorde:  ‘Don’t resign, but re-sign.’

 

* Ek sal volgende week verse 16-40 by hierdie preek byvoeg.

Moenie ophou preek nie

Duct tape on man

Predikante, sendelinge, en evangeliste was al bang of ontmoedig, en wou ophou preek.  Maar Jesus het belowe om met ons te wees wanneer ons dissipels maak (Matteus 28:20).  In Handelinge 14 het Paulus en Barnabas sy belofte geglo en aangehou preek toe alles teen hulle was.

 

Ikonium (v.1-7)

 

1 En op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat ‘n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het. 2 Maar die ongehoorsame Jode het die gemoedere van die heidene teen die broeders opgehits en verbitter. 3 Hulle het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind. 4 En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan. 5 Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, ‘n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig, 6 het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke. 7 En daar het hulle die evangelie verkondig.”

 

In die vorige hoofstuk was Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië.  Die Jode het hulle teëgestaan.  Hulle het 150 km suid-oos gereis Ikonium toe.  Hulle het weer sinagoge toe gegaan om eerste vir die Jode te preek (Romeine 1:16).  Baie Jode en heidene het hulle boodskap geglo.  Daar was Jode wat nié geglo het nie.  Hulle het die evangelie en die gelowiges belaster en leuens vertel, om sodoende die heidene teen hulle op te sweep (v.2).  As gevolg van die leuens moes die sendelinge langer bly om deur hulle prediking en lewens te bewys dat die aantygings vals is (v.3a).  Jare later het Paulus vir Titus gesê:  “Betoon jou in alles ‘n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid.  Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie.” (Titus 2:7-8).

 

Die Heilige Gees het die waarheid van die Woord met wondertekens bevestig (v.3b).  Baie mense het die evangelie geglo, maar ander het aan die leuens vasgehou.  Die stad was verdeeld; die waarheid bring skeiding (v.4, Matteus 10:34, Hebreërs 4:12).  Die teëparty wou vir Paulus en Barnabas stenig.  Hulle het 30 km suid-wes na Listre toe gevlug.  Daar het hulle verder gepreek (v.5-7, Matteus 10:23).

 

Moenie haastig wees om skindernuus oor predikers te glo nie, en moet ook nie betrokke raak om sommer so die stories oor te vertel nie (v.2).  Wat die Bybel met betrekking tot ouderlinge sê geld ook hier:  “Moenie ‘n beskuldiging teen ‘n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie.” (1 Timoteus 5:19).  Iemand het ‘n vals brief in die dorp versprei oor my beste vriend.  ‘n Jong man en meisie het my ander vriend van verkragting beskuldig.  Lidmate van my skoonma se kerk het ‘n storie versprei dat die predikant nie in die wederkoms glo nie.  Hulle het die kerk verlaat en ánder lidmate gebel om hulle voorbeeld te volg.  ‘n Man in ons assosiasie van kerke stook moles op en dreig om sy leuens in Die Beeld te laat publiseer.  Mense skryf leuens oor predikers soos John Piper en C.J. Mahaney.  ‘n Goeie vriend in Pretoria se bediening is beeïndig toe ‘n ouderling leuens oor hom vertel het.  In sy dag is Charles Spurgeon gedurig in die koerante belaster.  Moenie saam met hierdie mense die evangelie beskadig nie.  Bid eerder dat hierdie predikers moed en krag sal hê om aan te hou preek.

 

Listre (v.8-23)

 

8 En in Listre het daar ‘n man gesit wat magteloos was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie. 9 Hy het geluister terwyl Paulus spreek; en Paulus het die oë op hom gehou, en, toe hy sien dat hy geloof het om gesond te word, 10 met ‘n groot stem gesê:  Staan regop op jou voete!  En hy het opgespring en begin rondloop. 11 En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies:  Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe. 12 En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was. 13 En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer. 14 Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep 15 en gesê:  Manne, waarom doen julle hierdie dinge?  Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. 16 Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, 17 al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul. 18 Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer.

 

19 Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was. 20 Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek. 21 En nadat hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en ‘n aantal dissipels gemaak het, het hulle teruggegaan na Listre en Ikónium en Antiochíë, 22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê:  Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan. 23 En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.”

 

In Listre was daar ‘n man wat van geboorte af kreupel was in sy voete.  Toe Paulus die evangelie preek het hy die stories oor Jesus se wonders, soendood en opstanding geglo.  Hy het geglo dat Jesus lewe en mag het om hóm te genees.  Paulus het dit gesien en die man voor almal genees (v.8-10, 3:1-10).  Daar was ‘n oproer in die stad.  Die mense het uitgeroep dat Barnabas die oppergod Jupiter en Paulus Mercurius is (Zeus en Hermes is hulle Griekse name).  Die heidene het geglo dat Mercurius Jupiter se seun en spreekbuis was.  Daarom het hulle gesê dat die jong Paulus hý is.  Barnabas het seker ‘n sterk voorkoms gehad, en daarom het hulle hom Jupiter genoem.  Volgens Grieks- en Romeinse mitologie, het Jupiter en Mercurius per geleentheid in mensevorm verskyn, en die Listre-omgewing besoek.  Almal het hulle weggewys.  ‘n Arm man en sy vrou (Filemon en Baucis) het hulle ingeneem.  Hulle het die arm paartjie se huis in ‘n tempel verander en die res van die bevolking in ‘n vloed laat verdrink.

 

Toe die skare dus dink dat Paulus en Barnabas hierdie gode is, wou hulle nie in dieselfde strik trap as hulle voorvaders nie.  Hulle het gevrees en die ‘gode’ geprys en beplan om offers te bring (v.11-13).  Die apostels het nie Likaonies verstaan nie, en dus nie geweet wat aangaan nie (v.11).  Toe hulle hoor wat die skare wou doen, het hulle dit as lastering beskou en hulle klere geskeur (v.14, cf. Matteus 26:65).  Hulle het uitgeroep (sien v.15-17):

 

‘Ons is net mense, nie gode nie.’

 

‘Die skepping, God se voorsiening, en die evangelie wys vir ons wie die ware God is’

 

‘Afgode soos Jupiter en Mercurius is niks.  Hulle is kragteloos en het nog nooit iemand gesond gemaak nie (v.8-10).’

 

Hulle woorde het ook maar net-net die skare tot bedaring gebring (v.18).  Dit was egter nie lank voor dieselfde skare deur die Jode (uit Antiogië en Ikonium) aangehits is om Paulus te stenig nie (v.19).  Paulus was soos Jesus:  eers het die skare ‘Hosanna!’ geskreeu, en vyf dae later:  ‘Kruisig Hom!’  Paulus was nie dood nie.  Die nuwe dissipels het hom opgehelp (v.20).  Dalk was Timoteus een van hulle (cf. 2 Timoteus 3:10-11).  Paulus en Barnabas het die volgende dag 96 km oos gereis Derbe toe (v.20).  Sy lyf was seker baie seer na die steniging.  Maar hy het aangehou preek (v.21).

 

Die sendelinge is weer terug Listre, Ikonium en Antiogië toe.  Hulle het vir die nuwe dissipels gesê dat lyding en vervolging deel van die Christelike lewe is (v.22).  Jesus het gesê jy moet jou kruis opneem en Hom volg (Lukas 9:23).  Die sendelinge het ouderlinge aangestel om die nuwe gelowiges te leer en te troos.  Leer hieruit dat die leiers (nie die gemeente nie) ouderlinge moet aanstel (cf. Titus 1:5).  Leer ook dat elke gemeente meer as een ouderling moet hê.  Nadat hulle die leiers aangestel het, het hulle gevas, gebid, en hulle aan die Here opgedra (v.23, 13:3).

 

Moenie ophou preek as mense jou vervolg of kritiseer nie.  Jou slegte voorbeeld mag dalk nuwe Christene versoek om die Here te verloën.  As jy ‘n goeie voorbeeld stel, sal daar positiewe gevolge wees:

 

  • Nuwe gelowiges sal sien hoe ‘n mens lyding moet hanteer.
  • Hulle sal sien dat Jesus beter is as die lewe self.
  • Hulle sal leer dat die beloning wat kom baie groter is as die lyding wat ons nou moet deurmaak.
  • Mense sal nie sommer ‘n goedkoop belydenis maak nie. Hulle sal die koste bereken voordat hulle Jesus ‘aanneem’ of gou ‘n sondaarsgebed opsê. Jy sal baie hartseer en teleurstelling voorkom. Die mense wat geloof in Jesus bely sal eg wees en nie na drie weke wegval nie.

 

Antiochië (v.24-28)

 

24 Toe gaan hulle deur Pisídië en kom in Pamfílië; 25 en nadat hulle die woord in Perge verkondig het, het hulle afgegaan na Attálië. 26 En daarvandaan het hulle weggevaar na Antiochíë, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle volbring het. 27 En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy ‘n deur van geloof vir die heidene geopen het. 28 En hulle het daar by die dissipels ‘n geruime tyd deurgebring.”

 

Paulus en Barnabas is terug Perge toe (v.24).  In 13:13 het Markus hulle hiér verlaat.  Paulus het waarskynlik hiér siek geword (Galasiërs 4:13).  Met die terugreis het hulle hiér gepreek.  Vandaar is hulle Attalië toe om ‘n skip na Antiochië in Sirië te kry (v.25-26).  Hulle wou terugkeer na die kerk wat hulle uitgestuur het (13:1-3).  Toe hulle daar aankom het hulle vertel van wat die Here op hulle sendingreis gedoen het (v.27, hfst.13-14).  Hulle het vir omtrent ‘n jaar in Antiochië gebly (v.28).  Hulle het seker, soos voorheen, die Woord in die gemeente gepreek (11:26, 13:1).  Dus het hulle, selfs toe hulle terug is, nie opgehou om te preek nie.

 

Het jy nuus van wat die Here in ‘n sekere area doen?  Deel dit, sodat die gemeente ingelig kan bid.  Het jy ‘n getuienis van hoe die Here mense tot bekering gebring het (v.27)?  Deel dit, sodat ander die Here saam met jou kan prys.  Ek het so ‘n storie om te vertel.

 

‘n Paar jaar gelede het ek die evangelie met ‘n man en vrou gedeel.  Hulle het eenkeer in ‘n bloumaan kerk toe gekom.  ‘n Paar maande gelede het hulle meer getrou begin kom (die vrou meer as die man).  Ses weke gelede het die vrou bitterlik gehuil na ‘n oggenddiens en gesê dat sy haar lewe met die Here wil regkry.  Ek het weer die evangelie met haar gedeel en gesê sy moet op Jesus vertrou.  Sy het gesê:  ‘Ek probeer, maar voel niks.’  Twee weke later toe bel sy om my te kom sien.  Sy het haar man saamgebring.  Hy het gesê:  ‘Ek soek Jesus in my lewe.’  Ek het weer die evangelie met hulle gedeel.  Ek het hulle huistoe gestuur en gesê hulle moet Johannes-evangelie lees.  ‘n Week later het hulle teruggekom.

 

Hulle het Johannes deurgelees en kon nie ophou praat oor hoe wonderlik Jesus is nie.  ‘Ons glo Hy is die Seun van God,’ het hulle gesê.  Hulle het vertel van hoe sleg en lelik hulle sonde is, en hoe Jesus aan die kruis gesterf het vir hulle sondes.  Hulle het vertel hoe verlig hulle is dat hulle sonde nou vergewe is.  Hulle het gepraat van Jesus se groot geduld en liefde, van ‘n begeerte om Christus meer te ken en sy Woord te verstaan.  Die man het gepraat van antwoorde op gebed.  Hulle het die begeerte uitgespreek om ander van die Here te vertel, en is besorg dat hulle vriende nie die Here ken nie.  Hulle het reeds met ander oor die Here gepraat.  Die man het gepraat van die jammerte wat hy oor sonde het, omdat sy Vader dit sien en ontevrede is daarmee.  Die vrou het gesê:  ‘Ek weet hoekom ek drie weke terug gebid het, maar nie anders gevoel het nie:  want ek het in my sonde gelewe.’  Hulle kon nie genoeg oor die wonder van die Bybel praat nie.  Beide het gesê:  ‘My lewe was altyd net ek, ek, ek.  Almal om my was verkeerd en moes verander.  Nou het die Here ons oë oopgemaak om te sien dat ons skuldig is.’  Die man het gesê dat sonde hom in die verlede nie gepla het nie, maar dat dit nou berou bring in hom.  Hy het gesê:  ‘Nou weet ek hierdie is die regte pad.  Ek verstaan nie hoekom mense so blind is nie.  Dis nou so eenvoudig is:  vertrou net die Here.’  Hy sê dat baie mense weet Jesus het aan die kruis gesterf, maar verstaan nie eintlik hoekom nie; hulle verstaan nie wat dit beteken nie.

 

Ek het intussen weekliks met hulle ontmoet.  Hulle het Matteus tot Lukas deurgelees en is baie opgewonde.  Hulle was Woensdag weer hier.  Hulle het vertel hoe lekker dit is om die Here se weë te volg en om Hom te gehoorsaam.  Hulle het duidelik nuwe begeertes.  Die man het gesê hoe hy antwoorde gehad het vir iemand wat die evangelie beledig het.  Hy het ook vertel hoe hy teen iemand gesondig het, en die persoon gebel het om vergifnis te vra.  Hulle het openlik gesê dat hulle die Here as hulle Verlosser ontvang het.   Hulle het gepraat van hoe hulle ‘n begeerte het om in die bidure te bid, maar nie mooi weet hoe nie.  Hulle het ook gesê dat hulle nie eers hulle ou vriende mis nie, maar ‘n begeerte het om saam met Christene te wees.  Hulle geniet die Bybel en probeer om dit toe te pas.uH

 

 

Ek hoop die storie bemoedig jou soos dit my bemoedig.

 

Ek het ‘n advertensie van ‘n SHURE mikrofoon gesien.  Mense het die mikrofoon uit ‘n helikopter laat val, in ‘n vrieskas gelos, vir ‘n lang tyd begrawe, dit opgeblaas, dit in water gesit, met ‘n trok daaroor gery, en ‘n spul ander goed gedoen.  Die mikrofoon het nogsteeds gewerk.  Jy moet so wees en in die moeilikste tye aanhou preek.  Die Here is met jou.