God se vingerafdrukke

heavens-declare-gods-glory

Het jy al ooit gesien hoe ‘n DVD, CD of sonbril lyk as ‘n klein kind dit in die hande gekry het? Dit is vol vingermerke.  En so kan God se vingerafdrukke oral in die skepping gesien word.  Ps.19:1-7 sê immers vir ons dat dit sý handewerk is.  In ‘n ander Psalm (8:4) praat Dawid van ‘die werk van sy vingers’.

 

Omdat Dawid (v.1) ‘n skaapwagter was, was hy gereeld buite in die veld en het hy oor God se skepping geskryf (v.2-7). Hy was ook baie lief vir God se Woord.  Hy het dit gedurig oordink en het in die tweede helfte van die psalm daaroor geskryf (v.8-15).

 

Ps.19 gaan oor die algemene- en besondere openbaring van God. Algemene openbaring verwys daarna dat God Homself deur die skepping bekendmaak (v.1-7), terwyl besondere openbaring na sy bekendmaking in die Skrif verwys (v.8-15).

 

Sy algemene openbaring in die skepping is soos vingerafdrukke: daardeur kan ons weet dat Hy bestaan en kan ons ook iets van sy identiteit weet.  Ons kan egter nie ‘n persoonlike verhouding met Hom hê, omdat ons ‘n sappige mango geëet het of ‘n verskietende ster gesien het nie.

 

God se besondere openbaring in die Bybel is soos ‘n autobiografie: daardeur kan jy Hom leer ken.  Dit is eintlik beter as ‘n autobiografie, omdat jy nie net die feite oor Hom kan ken nie, maar jy kan ‘n persoonlike verhouding met Hom hê.

 

In hierdie preek wil ek op God se vingerafdrukke in die skepping fokus. In die volgende preek sal ek op sy autobiografie in die Bybel fokus.

 

Die hemelruim (v.2-5a)

R.C. Sproul vertel hoe hy eenkeer vir sy geldsake bank toe gegaan het. In die plek waar hy gesit en wag het was daar ‘n dik mat, ‘n swaar hout koffietafel en egte leer meubels.  Daar was ook ander duur en luukse afwerkings.  Sproul het gevra om die bankbestuurder te sien.

 

‘Die manier hoe julle die bank versier het gee vir my die idee dat my geld veilig sal wees by julle’ het Sproul vir die bestuurder gesê. ‘Dit is presies die boodskap wat ons deur die binneshuise versiering wil oordra – jy is een van die min mense wat dit agtergekom het,’ het die bestuurder geantwoord.

 

Sonder om woorde te gebruik het die bank se versiering ‘n boodskap oorgedra. En so dra die skepping vir ons ‘n boodskap oor; dit sê vir ons iets van die God wat dit gemaak het.

 

Die uitgestrekte hemelkoepel (Gn.1:1, 6-8) verkondig God se heerlikheid en sy handewerk (v.2). In v.3-7 brei Dawid hierop uit.  In die blou hemel sowel as in die sterrehemel sien ons die bewyse van God se wonderlike handewerk.  Die bloedrooi oggendson en die heldergeel middagson, die volmaan wat soos ‘n groot ronde witkaas lyk, ‘n sterrehemel in die Karoo, die planete, weerlig, groot donderwolke, reënboë, en die res van die hemel wys vir ons God se heerlikheid (v.2).  Dit roep as’t ware uit:  ‘God bestaan!  God is roemryk en het ons gemaak!’

 

As ons na die hemel en die res van die skepping kyk is dit duidelik dat daar ‘n Intelligente Ontwerper is wat alles uitgedink het en aanmekaar gesit het. Uit die Bybel weet ons dat hierdie Ontwerper die Drie-Enige God is.

 

Volgens v.3a stort die een dag ‘n boodskap vir die ander uit. Dit borrel uit en loop oor van een dag na die volgende toe.  Daar is so baie om te vertel.  Elke nuwe dag sê vir ons dat die Here regtig bestaan en dat Hy groot is.  In die oggend sien en hoor ons die voëls.  Die son kom op en skyn soos ‘n helder flits, sodat ons alles kan sien.  Die son verf die donkerblou aandhemel toe met ligte blou.

 

Die wind dans met die lang gras. Die dou lê soos kopspeld-grootte diamante op mense se grasperke.  In die veld styg die mis van die grond af op, sodat dit lyk of die aarde sy bed opmaak.  Die insekte het aangemeld vir werk.  Die sebras het nog hulle nagklere aan wanneer hulle by die watergat aankom.  Al die diere van die veld verlaat hulle huise om gras en blare, bessies, heuning, insekte, sade en ander kos te soek.

 

Soos die dae het die nagte ook iets vir mekaar te sê (v.3b). Die een nag bied aandklasse oor God se wese en karakter aan vir die volgende.  Alles wat in die donker nag uitkom is ‘n openbaring van die kennis van God (v.3b):  die sekelmaan met sy glimlag, sterre wat meer is as sandkorrels in die Sahara, leeus en hiënas, vuurvliegies, vlêrmuise, motte en meer.  Die naglewe sing saam in ‘n koor dat God hulle gemaak het.

 

Die dag en die nag en alles wat daarin gebeur gee vir ons ‘n sekere kennis van God (v.3). ‘n Skilpad met sy huis op sy rug leer vir ons dat God wys is.  Seevoëls (malgasse) wat soos kamikaze vlieëniers in die water induik om vis te vang, en ‘n vol reënmeter na die lang maande van droogte wys vir ons dat God goed is (Hd.14:17).

 

Die magtige Himalayas wat die hoogste geboue ter wêreld verdwerg sê vir ons dat God almagtig is. Die getal en verskeidenheid van alles wat God gemaak het leer vir ons dat Hy alwetend is.  Die ordelikheid, simmetrie en presiese mates van ‘n byenes wys vir ons dat Gód so is.  Die kleur van korale, plante, seediere en visse in Australië se Great Barrier Reef gee vir ons ‘n idee van hoe pragtig God moet wees.

 

Die manier waarop ‘n ma haar nuwe baba saggies teen haar vasdruk gee vir ons ‘n vae beeld van God se groot liefde. Dag na dag en jaar na jaar kom die son op en gaan dit weer onder, breek die lente en die somer aan en verander die herfs weer in winter.  Dít leer vir ons dat die Here getrou is.

 

Omdat die mens nie onder hierdie God en sy reëls wil lewe nie, kyk hy na die see en die sterre, en sê hy dat die wêreld homself gemaak het. Hy sal nooit sê dat ‘n skildery van die berge homself gemaak het nie, maar hy oortuig homself dat die werklike berge deur toeval ontstaan het.  Hy sal sê dit is onmoontlik om 50 tennis balle in lug te gooi, sodat dit in 10 rye van 5 elk op die grond val.  Maar hy glo dat die perfekte orde van die planete in hulle wentelbane uit die wanorde van die ‘Big Bang’ ontstaan het.

 

Paulus sê dat hierdie mense “in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid” (Rm.1:18-20).

 

Die skepping openbaar God en sy attribute. Tog gebeur dit nie met woorde nie (v.4, kontr. v.8-10).  Die skepping se onhoorbare stem roep uit dat daar ‘n God is en dat Hy roemryk is (v.4).  Die stem is nie so sag dat jy jou ore bak hoef te hou nie.  Dit is nie nodig om vir die skepping te sê:  ‘Ekskuus tog?  Praat harder, ek kan nie hoor nie.’  Die boodskap is duidelik, omdat die skepping se stem oor die hele aarde uitgaan (v.5a).  Die uithoeke van die planeet hoor en eggo die boodskap (v.5a).  Daarom kan niemand sê dat hy nie geweet het God bestaan nie (Rm.1:20-21, 10:18).

 

Volgens is die ESV is dit die skepping se stem wat uitgaan.  Maar volgens die Afrikaanse Ou Vertaling is dit die skepping se meetsnoer wat uitgaan (v.5a).  In Dawid se tyd het bouers ‘n meetsnoer gebruik om ‘n sekere gebied af te meet (Sg.2:1-2).  God het die wêreld gebou en met sy meetsnoer afgemeet.  Oral waar die meetsnoer strek is dit sy handewerk en kan ons sien dat die Meesterbouer regtig bestaan.  ‘n F-5 sterkte tornado en ‘n veldmuis se snorbaarde wys dit.

 

Die son (v.5b-7)

Die Grieke het hulle songod Apollo genoem, en die Egiptenare het hom Ra genoem. Die meeste ander heidense kulture het al op een of ander manier die son aanbid.  In v.5b-7 wys Dawid dat die son nie aanbid moet word nie, maar dat dit van die ware God getuig.

 

God het ‘n tent bo-oor sy bouperseël opgeslaan (v.5b). Die son woon in hierdie tent (v.5b).  Dag na dag staan die son op soos ‘n bruidegom wat op die eerste oggend van sy wittebrood by sy kamer uitkom (v.6).  Die son is soos hierdie bruidegom wat nuut en vars voel.  Dit skyn helder en is gereed vir die dag.

 

Deur die dag is die son soos ‘n sterk man wat om ‘n baan hardloop (v.6). Die man is so sterk en fiks dat hy nie eers moeg word om te hardloop nie.  Hy geniet dit eintlik (v.6).  So is die son:  dit word nie moeg om in die lug te hang en op die aarde te skyn nie.  Die son is soos ‘n sterk en gesonde jong man se gesig wat van blydskap skyn (v.6).

 

Elke oggend loer die son oor die oostelike horison vir die aarde (v.7). As hy klaar weggespring het hardloop hy tot op die westelike horison (v.7).  So gaan dit al vir duisende jare – om en om hardloop die son (v.7, Pd.1:5).

 

Die son se hitte kan ook oral gevoel word (v.7). Dit bak die aarde warm.  Selfs in die koelte kom die radiasie deur.  ‘n Blinde persoon kan nie die skepping sien nie, en ‘n dowe persoon kan dit nie hoor nie.  Maar hulle kan nogsteeds die son se hitte voel.  Nie eers húlle kan sê dat hulle nie geweet het God bestaan nie.

 

Wat is die lesse wat ons uit die eerste sewe verse van hierdie Psalm leer?

 

Hierdie Psalm moes deur die tempelkoor gesing word (v.1). Die les is dan dat ons die Here vir sy skepping moet prys.  Ons doen dit wanneer ons lofliede in die kerk sing, maar bedoel ons dit?

 

In ons besige lewens en malle gejaag na geld vergeet ons om die wind in ons hare te voel en die sand tussen ons tone. Ons kyk vas in beton, glas, staal, karre en geboue.  Ons is angstig oor vergaderings en raak verstrik in ons beplanning vir die toekoms.  In die proses laat ons na om onder ‘n koelte boom te sit en die gekoer van die duiwe te hoor.  Spurgeon het gesê:

 

‘He who forgets the humming of the bees among the heather, the cooing of the wood-pigeons in the forest, the song of birds in the woods, the rippling of rills among the rushes, and the sighing of the wind among the pines, needs not wonder if his heart forgets to sing and his soul grows heavy. A day’s breathing of fresh air upon the hills, or a few hours’ ramble in the beech woods’ umbrageous [Afr. skaduryke] calm, would sweep the cobwebs out of the brain…

 

…A mouthful of sea air, or a stiff walk in the wind’s face, would not give grace to the soul, but it would yield oxygen to the body, which is next best… The ferns and the rabbits, the streams and the trouts, the fir trees and the squirrels, the primroses and the violets, the farm-yard, the new-mown hay, and the fragrant hops – these are the best medicine for hypochondriacs [Afr. swaarmoediges], the surest tonics for the declining, the best refreshments for the weary.’[1]

 

Die skepping is ‘n boek wat elke gelowige behoort te lees. David Brainerd – ‘n Amerikaanse sendeling in die 1700’s – het met depressie gesukkel.  Dit is ‘n groot jammerte dat hy nie van God se anti-depressante gebruik gemaak het nie.[2]  Wolke, die blou hemel, blomme en sonsondergange sou hom gehelp het.  As hy God se heerlikheid in ‘n ladybird gesien het, sou die lofpsalms soos ‘n vulkaan in sy hart ontplof het.  En sou dit nie ‘n steroïde vir sy siel gewees het nie?

 

In dieselfde asem wil ek sê dat ons nie te veel op die skepping moet steun nie. Vir die dieper nood in die menslike hart is die skepping onvoldoende.  Om vergewe te word en geestelik te groei moet die Heilige Gees deur sy Woord in jou werk.  Om op die strand te loop of om bo-op ‘n berg te sit gaan nie help nie.  Die skepping op sy eie kan nie iets geestelik vir jou doen nie; v.2-7 sonder v.8-15 is onvolledig.

 

Die skepping is net die prediker en nie die Een van wie gepreek word nie; dit verkondig God se heerlikheid en is nie sy heerlikheid nie (v.2). Christus is die heerlikheid van God (2 Kor.4:6, Heb.1:3).  As die skepping God se heerlikheid so mooi vertoon, hoe duidelik moet dit dan nie in Jesus Christus gesien word nie?  Jou hart sal onreëlmatig klop en jy sal na jou asem snak as jy eendag sy skoonheid sien (2 Ts.1:10).

 

Omdat die skepping dan net die boodskapper is, mag ons dit nie aanbid nie (Rm.1:23, 25). Ons kan nie ‘n teorie aanhang wat sê dat die wêreld homself gemaak het, dat alles deur toeval ontstaan het, of dat alle vorme van lewe die gevolg van breinlose evolusie is nie.  Om dit te doen is om die skepping tot op die vlak van God te verhef.

 

Sover my kennis strek bid niemand in ons gemeente tot die son nie, en is daar ook niemand van ons wat voor bome buig nie. Die meeste van ons glo ook nie in evolusie nie.  Tog gebeur dit al te dikwels dat ons die skepping aanbid.  Buiten vir die feit dat ons te veel maak van mense se opinies en kos, beskou ons die mens as ‘n indringer, omdat hy bome afkap om ‘n mall te bou of ‘n plantasie te groei.  Dat hy dít doen pla ons meer as dat hy ongebore babas doodmaak.

 

Ek het laasweek op RSG gehoor hoe Sakkie Spangenberg iets in die volgende lyn sê: ‘Terwyl die pole besig is om te smelt stry die kerk oor of gay mense moet trou of nie.’  Hy het by implikasie gesê dat ons meer besorgd moet wees oor aardverwarming [Eng. global warming] as oor lawwe morele kwessies soos gay huwelike.  Iemand wat soos die wêreld dink se prioriteite is nie net onderstebo nie – hy verafgod die skepping.

 

Die Bybel is gebalanseerd. Terwyl jy nie ‘n obsessie moet hê met jou troeteldiere nie, moet jy hulle ook nie mishandel nie (Sp.12:10).  Ons moet verantwoordelik met die skepping omgaan en daaroor heers (Gn.1:28).  Ons moet dit nie verniel nie, maar ons moet dit ook nie verafgod nie.

 

Ons moenie soos ateïste wees en God se heerlikheid in die skepping miskyk nie. Hulle kan nie sy vingerafdrukke in ‘n blaar raaksien nie.  John Piper vertel hoe hy elke oggend verby ‘n sekere boom geloop het.  Deur net na die boom te kyk was dit vir hom duidelik dat daar ‘n God is.  Maar die ateïs sien dit nie raak nie.

 

Daar is ‘n baie spesifieke rede hoekom hy dit nie sien nie. As daar ‘n God is wat alles gemaak (hom ingesluit), dan kan hy nie lewe soos hy wil nie.  Omdat hy homself nie aan die Here wil onderwerp nie, sê hy dom dinge soos dat die heelal homself gemaak het.

 

Ons ontken dit natuurlik nie verbaal nie, maar partykeer lewe ons asof daar nie ‘n God is wat alles gemaak het nie. Die manier hoe ons soms oor ons finansies, werk, inkomste, omstandighede en toekoms stres, wys dat ons nie regtig glo dat die God wat die blomme met soveel detail gemaak het, vir ons óók kan sorg nie.

 

Moet ons nie eerder ‘n gewoonte daarvan maak om daagliks te kyk hoe die son opkom (v.7), en dan vir onsself te sê: ‘sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot.’ (Klg.3:22-23)?  Om die Here se goedheid te betwyfel sodat jy nie vir sy voorsiening bid en Hom daarvoor prys nie, is niks anders as praktiese ateïsme nie.

 

Maar om die Here as die wonderbare Skepper te erken is nie genoeg nie. Hy moet ook jou Verlosser wees.  Hoe lyk dit met jou:  is Hy jóú Verlosser?  Het jy jou volle hoop om gered te word op Jesus, sy kruisdood en sy opstanding geplaas, soos jy wat geheel en al op jou bed staatmaak om jou gewig te dra?  Glo jy in die Jesus van die Bybel; vertrou jy op Hom?

 

Is jy seker jou sonde is vergewe? Is jy vry daarvan of is jy vas in hierdie harde meester se boeie?  Pla jou gewete jou oor iets?  Is jy van binne af nuutgemaak, sodat jy ‘n nuwe skepping is wat deur jou veranderde lewe God se heerlikheid en lof verkondig (2 Kor.5:17)?  Dit is tog hoekom Hy jou gemaak het, nie waar nie?

 

Jes.43:7 praat van “elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het.”  In Jes.43:21 sê die Here:  “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.”  1 Kor.10:31 sê vir ons hoe gelowiges moet lewe:  “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”

 

Dit is erg as die vlooie wat op jou hond se rug loop God se heerlikheid beter verkondig as wat jý dit doen. Onderaan my ma se skilderye staan daar: Soli Deo Gloria (aan God alleen die eer).  Net so moet die skilderye van ons lewens ook ‘n kleurvolle uitbeelding van God se heerlikheid wees.

 

Soos met die res van die skepping moet God se vingerafdrukke in ons lewens gesien word. Steve Green sing:

 

All across the world People everywhere

Ask “How can I believe in a God I cannot see?

If there really is a God, why is there so much pain?

If I could only see, then I’d believe.”

If you could only see

That His Love is written all across the sky

As brilliantly the stars all testify

For the glory of the God who reigns on high

Is displayed in the world He has made

And as all creation seems to shout and sing

In wonder of the one Almighty King

His signature can easily be seen on everything

Take a minute now and take a look around

Can you believe that everything you see took place by chance?

The intricate design down to the last detail

And what about the mystery that cuts us like a knife:

“What is the source of life?”

 

[1] C.H. Spurgeon, Lectures to my Students, p.158

[2] http://www.desiringgod.org/messages/oh-that-i-may-never-loiter-on-my-heavenly-journey

Advertisements

Hemel op aarde

Deer by tree

8 Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. 9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. 10 En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. 11 Die naam van die eerste is die Pison.  Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. 12 En die goud van dié land is goed.  Daar is ook balsemgom en onikssteen. 13 En die naam van die tweede rivier is die Gihon.  Dit is hy wat om die hele land Kus loop. 14 En die naam van die derde rivier is die Hiddékel [Tigris].  Dit is hy wat oos van Assur loop.  En die vierde rivier is die Frat [Eufraat]. 15 Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. 16 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê:  Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, 17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” (Genesis 2).

 

Die mens in die tuin (v.8, 15)

God beskryf Homself in v.8 as ‘n landskap-argitek wat ‘n tuin ontwerp, plant en uitlê.  Die tuin van Eden was in die ooste (v.8).  Hiermee bedoel Moses natuurlik oos van waar hý was toe hy Genesis 2 geskryf het.  Die tuin se naam (Eden) beteken plesier.  Jesaja 51:3 beskryf dit so:  “Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.”  Eden was so en Jerusalem (Sion) sou ook so word.  Jesus is juis besig om hierdie ewige Paradys vir ons voor te berei:  “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het.  Ek gaan om vir julle plek te berei.  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Johannes 14:2-3).  God self het die stad ontwerp (net soos met die tuin van Eden).  “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is…Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse.  Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.” (Hebreërs 11:10, 16).  Hoe sal dit wees?  Ons kan hiervan lees in die Skrif:  “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar” (1 Korintiërs 2:9-10).  Hoe kan jy by hierdie stad inkom?  “Blessed are those who wash their robes [in the blood of the Lamb, cf. 7:13-14], so that they may have the right to the tree of life and that they may enter the city by the gates.” (Openbaring 22:14, ESV).  Hoe was jy jou ‘klere’ in die bloed van Jesus?  Jy bely jou sondes, bekeer jou daarvan, en vertrou met jou hele lewe op Jesus (sy Persoon en sy verlossingswerk) om jou te red en te vergewe.

 

God het die mens in die tuin gesit om dit te bewerk en te bewaak (v.8, 15).  Waarvan moes hy die tuin bewaak:  daar was mos nog nie gevaarlike diere nie?  Ja, maar selfs ‘n mak hond lê jou viooltjies plat en grawe jou gesiggies uit.  Voëls en muise is nie gevaarlik nie, maar hulle saai verwoesting in jou groentetuin.  Daarom het God vir Adam gesê om die tuin te bewerk en te bewaak.  God het werk uitgedink dat ons sy beeld kan weerspieël (1:26-28, 2:1-3, 15), en ook sodat ons vervulling kan hê (kyk maar hoe gefrustreerd en sleg raak mense wat nie wil werk nie).  Voor die sondeval was werk ‘n plesier (soos dit in die hemel sal wees, cf. Openbaring 22:3).  Na die sondeval het dit moeiliker geword (3:17-19).  As werk dan een van die goeie dinge is wat God gemaak het (1:31), moet ons nie lui wees en werk haat nie.  Ons moenie dink:  ‘Ek wil ‘n miljoenêr wees voor ek 40 is, sodat ek vroeg kan aftree en nie verder hoef te werk nie’.  Ons moenie wens ons kan altyd slaap of vakansie hou nie.  Ons moet hard werk en nie ons ure by die werk om klets, op Facebook sit, ekstra koffie breke vat, dagdroom of swak gehalte werk lewer nie (dit geld ook vir skoliere se huiswerk en take).  As jy werkloos is, moet jy pasop dat jy nie die verskoning gebruik dat werk skaars is as jy nie eintlik baie hard vir werk soek nie.  Christene moet harde, deeglike en goeie werk doen.

 

Adam moes die tuin kultiveer, sodat dit nie sou toegroei of onversorg lyk nie.  God sê nie noodwendig dat almal groen vingers moet hê nie, maar Hy wil hê dat jou lewe en werk nie onversorg lyk of ‘toegroei’ nie.  Moenie laat werkies in die huis, projekte by werk, papierwerk, jou gesondheid, jou voorkoms, jou huwelik, jou gesin, jou kerk lewe, jou vriendskappe, jou stiltetyd agterweë bly en deurmekaar raak nie.  Werk hard en bly op datum.  Dit was nie nodig vir Adam om die tuin te verwoes nie; as hy net sy plig versuim het, sou dit self agteruitgaan.  Net so bly jou werk en lewe nie noodwendig agterweë omdat jy dit haat nie.  Maar om na te laat en min aandag daaraan te gee is genoeg om ‘n vernietigende effek te hê.  As daar dinge in jou lewe is wat toegegroei het, moet jy hard werk om herstel te bring.  As jy eers die ‘tuin’ in orde gekry het, is dit baie makliker om te onderhou.  Watse dinge moet jy ophou doen om jou onversorgde ‘tuin’ reg te ruk?  Wat moet jy begin doen om orde te handhaaf?  As jy ‘n lui mens is (fisies, emosioneel, intellektueel, geestelik, watookal) is daar hoop in Christus.  Hy kan die lui man van Spreuke 24:30-34 in ‘n hardwerkende persoon verander.

 

Die riviere in die tuin (v.10-14)

Toe God die tuin klaar geplant het, was daar nog nie reën nie (v.5-6).  God het ‘n rivier in die tuin laat vloei, sodat Adam dit kon natlei (v.10).  Vir die eerste lesers (onthou hulle was in die woestyn) het riviere en bome gespreek van lewe, voorspoed en oorvloed (cf. Jeremia 17:5-8).  Die rivier wat uit Eden ontspring het, het in vier sytakke verdeel (v.10-14):

 

[a] Die Pison (die naam beteken ‘toeneem’) het om die land van Hawila gevloei (oos van Egipte, cf. 25:18).  Daar was goud, oniksstene en ‘n geurige boomgom wat gebruik is om parfuum mee te maak.  [b]  Die Gihon (die naam beteken ‘uitborrel’) het om die land van Kus gevloei (nie moderne Etiopië nie, maar ‘n land naby Babilon cf. 10:8-11).  [c] Die Tigris (Hiddekel beteken ‘vinnig’, cf. Dan.10:4) en [d] Eufraat (Efrat beteken ‘vrugbaar’, cf. 15:18) vloei oos van Assirië (suid-Irak soos ons dit vandag ken).  Om vir ewig te lewe het ons meer as water uit ‘n rivier nodig.  Die Bybel praat van lewende water:  “En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam…En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” (Openbaring 22:1, 17).  Hoe kry jy hierdie lewende water?  Jesus antwoord:  “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê:  strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Johannes 7:38).

 

Die bome in die tuin (v.9, 16-17)

Professionele kokke se kos proe nie net lekker nie – dit lyk lekker.  So was die vrugte in Eden:  “En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet…En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê:  Van al die bome van die tuin mag jy vry eet” (v.9, 16).  1 Timoteus 6:17 sê God het “ons alles ryklik verleen om te geniet”.  Voordat God in v.17 ‘n verbod op een boom geplaas het, het Hy in v.16 beveel dat Adam die vrugte van elke boom moes geniet.

 

In die middel van die tuin het God die Boom van die Lewe geplant (v.9).  Dié vrugte kon ‘n mes vir ewig laat lewe (3:22, Ek twyfel dat daar bonatuurlike krag in die vrug self was.  In die nagmaal gebruik ons gewone brood en wyn, en tog gee God bonatuurlike sterkte vir ons groei en geloof wanneer ons dit gebruik).  Anders as die Boom van die Lewe, sou die Boom van Kennis van goed en kwaad tot die dood gelei het (v.9, 17).  Dit kan nie wees dat die vrugte giftig was nie, want anders sou God nie in 1:31 gesê het dat sy skepping baie goed was nie.  Die rede waarom die boom se vrugte tot die dood sou lei, is omdat dood die uiteindelike gevolg van sonde is (Romeine 6:23).  Die dood waarvan hier gepraat word sluit fisiese, geestelike en ewige dood in.  Die dag toe Adam en Eva gesondig het, is hulle van God geskei (3:21).  God was genadig en het hulle nie onmiddellik doodgemaak nie.  Hy het eerder ‘n offer gebring en diere in hulle plek doodgemaak (3:21).  Baie jare later het hulle tog gesterf (5:5).  Die geestelike, en uiteindelik ewige dood, was hulle voorland… as dit nie vir die belofte van Christus was nie (3:15).

 

In die hemel kan ons weer van die Boom van die Lewe eet (Openbaring 22:2, 14).  Anders as in Eden, is daar nie ‘n Boom van die kennis van goed en kwaad nie.  En anders as in Eden, bestaan daar in die hemel nie die moontlikheid dat ons kan sonde doen en sterf nie.  In die hemel sal jy nie (soos Adam) ‘n stoflike liggaam hê nie, maar ‘n verheerlikte liggaam.  Hoe kan jy hierdie wonderlike voorregte geniet?  As Adam vir God geluister het en nie van die verbode vrugte geëet het nie, sou sy gehoorsaamheid aan ons toegereken word (net soos wat sy sonde aan ons toegereken is).  Ongelukkig het Adam nie die toets geslaag nie.  Maar daar is goeie nuus.  Jesus (die tweede Adam) hét die toets geslaag.  Adam was in die Paradys toe hy die toets gedop het.  Jesus was in die woestyn toe Hy die toets geslaag het (cf. Matteus 4:1-11).  Deur sy hele lewe was Jesus volmaak gehoorsaam.  Sy perfekte geregtigheid word nou aan ons toegereken (Romeine 5:12-21).  In Christus het ons dan nou meer as wat Adam ooit gehad het.  Ek glo die Heilige Gees het Genesis 2 in die Bybel gesit om vir ons te wys wat ons kón gehad het, asook wat ons kan herwin deur Christus.  Hoe kan jy dit terugkry?

 

Die Boom van die Lewe is deur Adam se ongehoorsaamheid van ons af weggeneem.  Deur Jesus se gehoorsaamheid en kruisdood is dit aan ons teruggegee:  “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word.” (Romeine 5:19).  “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe:  Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout [Gk. boom] hang” (Galasiërs 3:13).  Die kruishout waaraan Jesus gehang het is ons ‘Boom van die Lewe’, want daardeur het daar vir ons lewe gekom.  Omdat Jesus God is, weet Hy alles en ken Hy sonde soos wat ‘n spesialis (onkoloog) kanker ken.  Omdat Jesus mens was en ons sonde op Homself geneem het aan die kruis, ken Hy sonde soos wat ‘n pasiënt kanker ken (2 Korintiërs 5:21).  Hy het dus namens ons die straf gekry vir sy ‘kennis’ van ons sonde (cf. die Boom van die kennis van goed en kwaad).

 

Jy hoef nie vir die hemel te wag om die Boom van die Lewe te geniet nie.  Enigiemand wat die wysheid van die evangelie omhels kan die boom se vrugte eet (Spreuke 3:13, 18, 1 Korintiërs 1:30).  As jy met die Gees gevul is en sy vrug dra, kan jy ‘n idee kry van watse plesier die Boom van die Lewe gee (Spreuke 11:30, Galasiërs 5:22).  Moenie tevrede wees met klein plesiere nie, maar vind jou hoogste plesier in Jesus Christus (Psalm 37:4).  As jy dít doen sal jy ‘n voorsmaak hê van die Boom van die Lewe (Spreuke 13:12).  Goeie woorde is ‘n Boom van die Lewe vir die wat dit hoor (Spreuke 15:4).  Watse beter Woord is daar as God s’n?  As jy sonde en vals lering oorkom sal jy deel hê aan die Boom van die Lewe (Openbaring 2:7).  As jy die Woord suiwer bewaar en nie daarvan wegneem of byvoeg nie, sal jy van die Boom van die Lewe eet (Openbaring 22:19).  Soos in die begin, sal dit hemel op aarde wees.

Die mens se liggaam en siel: God se beskouing vs. die wêreld s’n

Dust in hands

“En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas.  So het dan die mens ‘n lewende siel geword.” (Genesis 2:7).

 

Liggaam (v.7a)

‘n Vrou van die Ou Apostels het eenkeer vir my gesê:  ‘Jou siel is dit wat saakmaak.  Jou liggaam is nie so belangrik nie.  Daarom kan jy kan maar vloek, rook, drink, rondslaap’.  Sy het gelieg.  God sê die liggaam is belangrik.  Toe Hy die mens se liggaam gemaak het, het Hy nie net ‘n woord gespreek nie.  Hy was intiem betrokke en het die mens se liggaam gevorm.  Hy het ook jóú liggaam in die baarmoeder gevorm (Psalm 139:13).  Omdat Hy jou geskep het, behoort jou liggaam aan Hóm.  Jy kan nie daarmee doen wat jy wil nie.  Jy moet God liefhê met al jou krag (Lukas 10:27).  Jy moet Hom met jou liggaam eer:  moenie verslaaf wees aan pille of drank nie.  Moenie ooreet nie.  Moenie jou longe met nikotien beskadig nie.  Moenie rondslaap nie (1 Korintiërs 6:12-20).  Moet jouself nie sny of ander dinge doen wat jou liggaam beskadig nie (Levitikus 19:28).  Moenie onversorg wees nie.  Moet jouself nie oorwerk, sodat jy uitbrand nie.  Moenie ongesond lewe nie.  Moenie lui wees nie.  Moenie selfmoord pleeg nie.  Moenie jou sintuie of liggaamsdele gebruik om sonde te doen nie (Romeine 6:13).  Moenie jou tong gebruik om lelike dinge te sê nie.  Moenie in jou gedagtes sondig nie.  Moenie jou lewe omslaap nie.  Laat jou liggaam ‘n dienaar van God wees in alles wat jy doen:  “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1).

 

Ook wanneer jy doodgaan behoort jou liggaam aan God, en moet jy Hom daarmee verheerlik:  “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie.  Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” (Romeine 14:7-8).  C.S. Lewis het gesê:  ‘You don’t have a soul; you are a soul.  You have a body’.  Hy is verkeerd.  Jou liggaam is jy, net soos wat jou siel jy is (v.7).  God het vir Adam gesê:  “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (3:19).  Vir die moordenaar aan die kruis langs Hom, het Jesus gesê:  “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.” (Lukas 23:43).  Wanneer jy sterf word jy begrawe en gaan jy hemel toe.  Die mens se liggaam is nie onbelangrik nie.  Wanneer jou liggaam in die graf is, is jy steeds een met die Here.  Paulus praat van mense wat in Christus gesterf het (1 Tessalonisense 4:14, OAV).  Die menslike liggaam is waardig.  Jy gooi nie ‘n dooie mens soos ‘n hond of kat op ‘n ashoop of in swartsak nie.  Dis juis omdat die liggaam waardig is, dat ons onsteld raak wanneer ons ‘n verminkte lyk by ‘n ongeluks- of moordtoneel sien (Rigters 19:29).  Die dood is aaklig, omdat dit onnatuurlik is dat die liggaam en siel van mekaar geskei moet word.  Die feit dat mense deesdae ‘n plesier daarin het om ander se lyke te sien (byvoorbeeld kunswerk met mense se lyke by Body Worlds), of ‘n obsessie het met kopbene en dooies (Markus 5:2, Heavy Metal musiek) is ‘n aanduiding van morele verval.

 

Volgens die Bybel is dit ‘n teken van God se vervloeking as ‘n lyk nie begrawe word nie:  “Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die HERE het dit gespreek.  Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die kind sterwe.  En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in ‘n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die HERE, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam.” (1 Konings 14:11-13).  “En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.” (Jeremia 25:33).  Persoonlik glo ek dat verassing nie dieselfde respek aan die liggaam betoon as begrafnis nie.  God self het sy goedkeuring aan begrafnis gegee toe Hy met sy eie ‘hande’ vir Moses begrawe het (Deuteronomium 34:5-6).  Jesus self was begrawe en nie veras nie.  Jesus het gesê dat Hy op die laaste dag die dooies uit hulle grafte sal uitroep (Johannes 5:28-29).  In die Ou Testament was dit ook ‘n vervloeking as iemand se liggaam verbrand is (1 Konings 13:2, 2 Konings 23:16-20).  Ek dink nie dat almal wat veras word vervloek is nie (inteendeel, ek ken baie toegewyde gelowiges wat veras is).  Maar ek dink tog dat hierdie saak iets is om oor te dink.

 

God het vir Adam uit die stof gemaak.  Dit wys vir ons dat die mens broos is (Psalm 103:14).  Ons leer ook hieruit dat die mens uit die aarde is en nie uit die hemel nie (1 Korintiërs 15:47, die mens is dus nie gelyk met God nie).  Die feit dat die mens uit stof gemaak is, sê ook vir ons dat evolusie onsin is – ons kom nie van ape af nie.  Uiteindelik wys dit ook vir ons dat die mens sterflik is (3:19).  Wanneer Jesus weer kom sal jy ‘n nuwe liggaam kry wat nie meer kan siek voel, moeg word, flou raak, swak word of sterf nie (1 Korintiërs 15:42-54).  Net soos God vir Adam uit stof gemaak het, sal dit vir Hom geen probleem wees om jou stoflike liggaam te herskep nie (sien Esegiël 37:1-14).  As jou liggaam in die graf bly is jou redding nie finaal afgehandel nie.  Paulus praat van die opstanding as die verlossing van die liggaam (Romeine 8:23, cf. Openbaring 6:9-11).  Duidelik is jou liggaam nie onbelangrik of minder rein as jou siel of gees nie.  Jou liggaam en gees is met sonde besoedel (2 Korintiërs 7:1).  Daarom bid Paulus:  “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Tessalonisense 5:23).

 

Siel (v.7b)

‘n Professor wat vir my klas gegee het, het in ‘n tydskrif-artikel geskryf dat die mens nie ‘n siel het nie.  Ja, jy kan nie met x-strale die siel opspoor nie, maar die feit dat jy ‘n gewete het bewys dat jy ook ‘n siel het.  Dat depressie veroorsaak word deur ‘n probleem in die brein is spekulasie en teorie.  Daar is geen mediese bewyse hiervoor nie.  Depressie bewys dat die mens nie net ‘n liggaam het nie, maar ook ‘n siel.

 

[1] As die mens nie ‘n siel het nie, dan is aborsie aanvaarbaar.  ‘n Weke oue baba in die baarmoeder het nog nie ‘n volledige brein of liggaam nie.  As ons net ‘n liggaam het, kan jy enigiemand wat nie ‘n volledige liggaam het nie, doodmaak (van babas in die baarmoeder tot mense wat liggaamlik en verstandelik gestremd is).  Jy word nie ‘n mens wanneer jy vir die eerste keer asemhaal nie.  Jy bestaan ook nie voor jou geboorte in die hemel nie (mense wat in reïnkarnasie glo leer dit).  Wanneer konsepsie plaasvind is jy al ‘n sondaar, en dus ook ‘n mens (Psalm 51:7).  Reeds in die baarmoeder het jy ‘n siel:  “Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van ‘n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan.  Hy doen dit alles.”  (Prediker 11:5, NAV).  Reeds in die moederskoot watsJohannes die Doper met die Heilige Gees vervul (Lukas 1:15).  God se bonatuurlike werk in die konsepsie van Jesus (Lukas 1:35), wys ook dat Hy ‘n ongebore kind as kosbaar beskou.

 

[2] As die mens nie ‘n siel het nie, kan jou liggaam nie lewe nie, want ‘n liggaam sonder ‘n siel is dood (Jakobus 2:26).

 

[3] As die mens nie ‘n siel het nie, dan bestaan sonde net in jou dade.  Tog wys die Bybel anders.  Haat vind nie plaas in die liggaam nie, maar in die siel (alhoewel die liggaam hieraan uitdrukking gee).  Selfsug en ‘tantrums’ in klein kinders is nie aangeleer nie, maar aangebore.  Duidelik is hulle sondaars nog voordat hulle sonde kan doen.  Net sondaars sterf.  Die feit dat pasgebore babas (wat nog geen sonde kan doen nie) sterf, wys dat hulle sondaars is.  Sondige dade begin in die hart (Matteus 15:19).  Ongelowiges wat sterf en hel toe gaan hou aan met sonde.  Hoe is dit moontlik as hulle nie liggame het nie?  Duidelik is sonde nie net die dinge wat jy verkeerd doen nie.  Dis in jou siel.

 

[4] As die mens nie ‘n siel het nie, bestaan daar nie iets soos redding nie.  As die mens net ‘n liggaam het, is daar geen verskil tussen die gelowige en ‘n ongelowige nie.  Die feit dat ‘n gelowige ‘n nuwe hart (siel) het, maak hom anders as die ongelowige.

 

[5] As die mens nie ‘n siel het nie, bestaan daar nie so iets soos lewe na die dood nie.  As jou liggaam sterf is dit verby.

 

[6] As die mens nie ‘n siel het nie, dan is daar ook nie so iets soos ‘n gewete nie.  Kan jy vir my wys waar in jou liggaam sit die gewete?

 

[7] As die mens nie ‘n siel het nie, dan hoef jy jou nie te bekeer van dronkenskap, homoseksualiteit, diefstal of angs nie.  Al hierdie probleme is dan in die brein (presies soos sielkunde sê).  Die oplossing is nie bekering nie, maar pille.

 

[8] As die mens nie ‘n siel het nie, dan kan jy nie gemeenskap met God hê of Hom aanbid nie.  Tog sê Jesus dat ons God in gees moet aanbid; dat ons Hom moet liefhê met ons hele hart en siel (Johannes 4:23, Markus 12:30).

 

[9] As die mens nie ‘n siel het nie, dan bestaan daar nie iets soos heiligmaking nie.  Jou heilige dade is tog net die uitdrukking van die geestelike groei wat in jou hart plaasvind.

 

[10] As die mens nie ‘n siel het nie, bestaan daar nie iets soos versoeking nie.  Hoe kan die duiwel jou versoek as jy hom nie met jou ore hoor nie?

 

[11] As die mens nie ‘n siel het nie, dan bestaan daar nie iets soos sekerheid van redding nie.  Die Skrif leer dat die Heilige Gees saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is (Romeine 8:16).  As jy nie ‘n siel het nie is dit dalk jou eie brein wat vir jou sê dat jy gered is.  Wie weet, dalk bedrieg jy jouself?

 

In ‘n sekere opsig kan ons sê dat diere ‘n siel of gees het (die Hebreeuse woorde in 1:21, 24, Predikers 3:19-21 word op ander plekke in die Ou Testament met ‘siel’ en ‘gees’ vertaal).  Hoe is die mens dan anders as diere?  God het nie net gemaak dat die mens ‘n lewende wese is nie.  Hy het lewensasem in sy neus geblaas (v.7, Job 27:3).  Hy het die mens na sy beeld gemaak (1:26).  Die mens het ‘n lewende siel geword (v.7, 1 Korintiërs 15:45).  Die Gees van God het Hom gemaak:  “Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend.” (Job 33:4).

 

Jou siel is ewig en kosbaar.  Die Skrif sê:  “Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend)” (Psalm 49:8-9).  “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind…Ek het ingesien dat alles wat God doen, vir ewig sal bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie; en God het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig.” (Prediker 3:11, 14).  As jou siel so kosbaar is en vir ewig sal lewe, moet jy dit nie verloor nie.  “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?  Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” (Matteus 16:26).

Mense, ape en die beeld van God

aap1

26 En God het gesê:  Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” (Genesis 1).

 

Iemand het my hond vergiftig.  My dogter se reaksie was:  ‘Sies, daardie mense wat vir Tom gif gegee het is lelik, want Tom is geskep na God se beeld’.  My vrou moes haar reghelp en verduidelik dat net mense na God se beeld gemaak is.  Volgens evolusie het mense en sjimpansees dieselfde ‘voorvader’:  ‘n aap-agtige wese.  Hierdie teorie is nog nooit bewys nie.  Daar was al baie bedrog, maar hulle kon nog nooit die ‘missing link’ vind nie.  Haeckel se vooropgestelde idees het gemaak dat hy opsetlik die embrios van mense, hoenders, honde, hase, visse en ander diere dieselfde geteken het.  Hy wou ‘bewys’ dat die mens eintlik net nog ‘n soort dier is.  Die wêreld sê ons is nader aan sjimpansees as aan God.  Evolusie sê die mens is soos ‘n laer wese, terwyl Genesis 1:26-27 sê ons is soos ‘n hoër Wese.

 

Christene wat glo mense is die produk van evolusie, ontken die Bybel.  Genesis 1-2 sê vir ons dat Adam en Eva die eerste mense was.  Ons weet Adam was ‘n historiese figuur, want Genesis 5:1 gee vir ons sy geslagsregister.  Volgens 1 Kronieke 1:1 begin die geslagsregister van die mensdom by hom.  Jesus se geslagsregister gaan terug tot by Adam (Lukas 3:23-38).  Jesus self haal Genesis 1:27 aan as geskiedenis (Matteus 19:4).  Paulus veronderstel dat Adam ‘n geskiedkundige persoon was (Romeine 5:12-21, 1 Korintiërs 15:22, 45-49).  Paulus tref ‘n vergelyking tussen Adam en Christus (die tweede Adam).  Indien Adam nie werklik bestaan het nie, dan val Paulus se argument plat.  In 2 Korintiërs 11:3 en 1 Timoteus 2:13-14 lees ons van Eva se deel in die sondeval.  Judas 14 verwys na Henog as die sewende persoon in Adam se geslagsregister.  Die Bybel laat nie plek toe vir enigiemand wat glo daar was ‘aapmense’ voor Adam nie.

 

God het alles (ook ape) gemaak volgens sy soort (v.11, 21, 24-25).  Net die mens is nie volgens soorte gemaak nie, maar is geskape na God se beeld.  Indien die mens van ape af kom, is hy een van die aapsoort en bestaan hy nie na God se beeld nie.  Moenie uit die laasgenoemde stelling aflei dat God se beeld te doen het met hoe die mens lyk nie.  Dit het niks daarmee te doen nie, want God is ‘n Gees (Johannes 4:24).  Wat is die beeld van God dan?  En hoe verskil ons van ape en ander diere?

 

Harmonie (v.26a)

Ek het Genesis 1:26 aangehaal vir ‘n persoon wat die Drie-Eenheid ontken:  “En God het gesê:  Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”.  Sy reaksie was:  ‘Ek sê ook soms vir myself:  Kom, laat ons ‘n bietjie buite gaan werk.’  Teoloë praat van ‘n ‘meervoud van majesteit’ en sê dat baie antieke konings na hulleself verwys het in die meervoud.  Alhoewel dit so is, is daar geen rekord van hierdie tipe ding in die Ou Testament of ander Hebreeuse geskrifte nie.  Wanneer God die meervoud gebruik, praat Hy ook nie met engele nie (soos wat party Rabbi’s geleer het).  Ons is mos nie deur engele geskep of na húlle beeld gemaak nie.  God vra ook nie vir engele raad wanneer Hy wil skep nie:  “Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig?  Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?” (Jesaja 40:13-14).

 

Die bedoeling in v.26 is eerder dat daar meer as een Persoon in die Godheid is.  In 3:22 lees ons:  “Toe sê die HERE God:  Nou het die mens geword soos een van Ons”.  En in 11:7:  “Kom, laat Ons neerdaal”.  Jesaja 6:8 sê:  “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê:  Wie sal Ek stuur?  En wie sal vir ons gaan?”  Matteus 28:19 praat van een Naam, maar drie Persone:  “doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”.  Jesus het gesê:  “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” (Johannes 14:23).

 

Wat het dit te doen met die mens wat na God se beeld gemaak is?  Kom ek verduidelik.  Die Vader, Seun en Heilige Gees is verskillende Persone.  Alhoewel elkeen van hulle volkome God is, is daar nie drie Gode nie maar een (cf. Johannes 10:30, 14:10).  Net so is Adam en Eva verskillende persone, maar tog word hulle een in die huwelik en bring hulle kinders voort na húlle beeld:

 

“En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” (v.27).

 

“Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (2:24).

 

“Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God.  Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is.  Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem.” (5:1-3).

 

“Want soos die vrou uit die man is [Eva is uit Adam gemaak], so is ook die man deur middel van die vrou [mans word gebore uit vroue]; maar alles is uit God.” (1 Korintiërs 11:12).

 

In die kerk is daar verskillende individue wat een is.  Net soos in die huwelik, is die eenheid van verskillende mense in die kerk ‘n weerspieëling van die Drie-Enige God.  Paulus sê:  “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” (Efesiërs 4:4-6).  Daar is een Gees, een Here, een Vader, maar net een God.  So bestaan die kerk uit verskillende individue, maar daar is net een liggaam.  Jesus het gebid “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Johannes 17:21).  Jesus se eenheid met die Vader beteken nie Jesus is die Vader nie (net soos ons eenheid met die Vader en die Seun nie beteken ons is God nie).

 

Wanneer jy met jou huweliksmaat of ander gelowiges wil baklei moet jy onthou dat jy na sy beeld gemaak is.  Dit geld ook vir gelowiges wat oorweeg om te skei.  Omdat God Een is en jy na sy beeld gemaak is, doen jy skade aan sy Naam wanneer jy in onenigheid leef.  Verder:  omdat jy een is in die huwelik en die gemeente, benadeel jy jouself wanneer jy in onenigheid leef of probeer om die eenheid te breek.  Die Bybel sê:  “Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.” (Efesiërs 4:25).  “So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame.  Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.” (Efesiërs 5:28-29).

 

Leer ook uit v.26 dat die Vader, Seun en Heilige Gees met mekaar kommunikeer.  Jesus praat van dinge wat Hy by die Vader gehoor het, asook van dinge wat die Heilige Gees by Hom gehoor het (Johannes 15:15, 16:13).  Omdat ons na sy beeld gemaak is moet ons ook in liefde met mekaar kommunikeer.  As ‘n gesin reeds min tyd maak om te kommunikeer, is dit ongesond om voor die TV te eet.  So ‘n gesin moet eerder om ‘n tafel sit en eet.  Gesinslede moenie in stilte leef nie, maar moet leer om met mekaar te gesels.  Leer om vir mekaar te luister (Jakobus 1:19).  Deel jou hart, gedagtes, emosies, lewe.  Moenie mekaar afbreek nie, maar praat net dinge wat opbou (Efesiërs 4:29).

 

Heerskappy (v.26b)

My hond wat vergiftig is het dit oorleef.  Maar toe kry hy kennel cough (honde brongitis).  Die afgelope twee weke moes ek pille in sy keel afdruk (yuk!).  My hond het nog nooit vir mý medisyne gegee toe ek siek was nie.  Dit wys vir ons dat mense nie maar net nog ‘n soort dier is wat ver ontwikkel het nie.  Mense is bo diere.  God het gesê dat die mens oor hulle moet heers:

 

“laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (v.26).

 

“Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel:  alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee.” (9:2).

 

“U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:  skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see.” (Psalm 8:7-9).

 

“Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende sowel as seediere word getem en is getem deur die menslike natuur.” (Jakobus 3:7).

 

“Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie; maar iemand het êrens getuig en gesê:  Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek?  U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel.  Alle dinge het U onder sy voete gestel.  Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie.  Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (Hebreërs 2:5-8).  Jesus self het mens geword, en in Hom sal alle dinge volkome aan die mens onderwerp word.

 

Die mens is die kroon van God se skeppingswerk.  As sy beeld kan die mens ook werk en dinge skep (natuurlik nie uit niks soos God nie).  Ja, bye, miere en wewers kan ook dinge skep, maar hulle kan net een soort ding doen en vorder ook nie in hulle ontwerpe nie.

 

As ons dan oor die skepping heers moet ons daarvoor sorg, dit bewaar, nie mors of vandaliste wees wat dit vernietig nie.  Ons moet ook nie net sommer wilde diere uit hulle natuurlike omgewing neem, sodat hulle sukkel om aan te pas wanneer hulle terugkeer nie.  Aan die ander kant moet ons nie ‘n afgod maak van die natuur nie.  As mense aangestel is om oor die natuur te heers dan meng ons nie in as ons sekere normale take vervul nie.  Diere moet beskerm word, maar daar bestaan nie iets soos diere regte nie.  Green Peace mense maak ‘n afgod van die natuur.  Die mens heers oor die skepping, en daarom is dit reg as ons bosse uitkap om plek te maak vir plantasies en landerye.  Dis ook goed en reg om diere in te span om vir ons te werk (soos osse en perde).  Dis nie moreel verkeerd om aartappels of skape te kloon nie.  Iemand sal beswaar aanteken:  ‘Dan is dit ook nie verkeerd om mense te kloon nie’.  Dit is.  God het die mens aangestel om oor die diere te heers en nie oor ander mense nie (v.26, 28).  Jy kan ‘n bees skiet of aborteer, maar om dit met ‘n mens te doen is moord:  “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.” (9:6).  Jy kan vir ‘n hond sê om te ‘voetsek’, maar om ‘n mens sleg te sê is sonde:  “Daarmee [die tong] loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is.” (Jakobus 3:9).  Jy kan ‘n donkie inspan om ‘n karretjie te trek, maar as jy ‘n mens ontvoer om jou slaaf te wees beskadig jy iemand wat na God se beeld gemaak is.

 

Omdat alle mense na God se beeld gemaak is, is rassisme ‘n gruwel.  Die Bybel sê dat daar verskillende nasies, tale, volke en stamme is (Openbaring 5:9).  Maar God het nie die mens na sy soort gemaak nie.  Daar bestaan dus nie so iets soos verskillende rasse nie (jy kry Afrikaners met baie donker velle en Indiërs met ligte velle).  Daar is net een ras, en dit is die menslike ras:  “En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.” (11:1).  “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:26).  Die enigste verskil wat God in die mensdom ingebou het, is die verskil tussen mans en vroue (v.27).  Daarom mag mense van dieselfde geslag nie met mekaar trou nie, terwyl mense van verskillende ‘rasse’ met mekaar mág trou.  God verbied dat ‘n gelowige en ‘n ongelowige met mekaar trou (Deuteronomium 7:3-4, 1 Korintiërs 7:39, 2 Korintiërs 6:14).  Evolusioniste wat hulle teorie konsekwent deurvoer moet ook rassiste wees.  Volgens die evolusie teorie het party rasse verder gevorder as ander.  Evolusie glo die sterkste spesie oorleef (survival of the fittest).  Ten minste was Hitler konsekwent in sy evolusionistiese denke, toe hy die ‘swakker’ ras wou uitmoor om ‘n superras te ontwikkel.  Anders as die evolusie-teorie, leer die Bybel dat nie mens nie net nóg ‘n dier is nie, maar dat hy bo die res van die skepping is, dat hy deur God aangestel is om dit te versorg.

 

Herstel (v.27)

‘Ons is die beeld van God, nie soos ‘n potloodskets van ‘n man wat die man uitbeeld nie, maar meer soos ‘n kind wat baie na sy pa lyk’ (vry vertaal uit Thomas Brooks, The Secret Key to Heaven, p.110).  Verbeel jou iemand staan langs ‘n meer waar hy sy eie weerkaatsing in die water sien.  As die persoon ‘n klip in die water gooi, versteur die rippels sy beeld en maak dit onduidelik.  Dis hoe God se beeld in ons is.  Voor die sondeval was dit perfek (die water was stil).  Na die sondeval, egter, is God se beeld in ons versteur (Satan en sonde het ‘n klip in die water gegooi).  Ja, ongelowiges weerspieël steeds God se beeld (cf. Genesis 9:6, Jakobus 3:9), maar dis ‘n verdraaide beeld.  Sonde het ‘n lelike effek op eenheid in die huwelik, kommunikasie, verhoudings (ook ons verhouding met God), heerskappy oor die skepping, moraliteit, ons geestelike natuur en logiese denke oor God en die wêreld.

 

Jesus het gekom om die beeld van God in ons te herstel (om die water stil te maak).  God het ons gered om ons na sy beeld te herstel.  Deur ‘n proses van heiligmaking vorm Hy ons na sy beeld.  Wanneer Jesus terugkom sal hierdie werk voltooi wees en sal ons Hom weer volmaak weerspieël:  “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders” (Romeine 8:29).  “julle [moet] jul met die nuwe mens beklee…wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kolossense 3:5).  “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” (1 Johannes 3:2).[1]

 

Leef in gemeenskap met Jesus.  Bekeer jou gedurig van jou sonde en gehoorsaam Hom.  Sodoende sal jy meer en meer verander word na sy beeld.  Die Skrif sê:  “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Korintiërs 3:18).  Paulus sê “dat julle…die oue mens moet aflê…en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God [se beeld] geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” (Efesiërs 4:22-24).

 


[1] Ons is na God se beeld gemaak en soos Hy, maar dit beteken nie ons is gode nie (soos wat Satan in 3:5 gesê het, en soos wat Benny Hinn en ander Prosperity predikers glo).

Genesis 1 voor Darwin

Darwin and Genesis

Voor Darwin het Christene Genesis 1 letterlik verstaan.  Na Darwin se Origin of Species, het die kerk probeer om Genesis 1 met evolusie te versoen.  Vandag glo mense Genesis 1 is nie geskiedenis nie maar poësie.  Ja, Genesis 1 is goed geskryf, maar buiten vir v.27 is daar geen parellelismes, metafore of ander Hebreeuse poësie vorme nie.  Psalm 104 is ‘n gedig oor die skepping.  Genesis 1 is nie.

Party mense sê dat God deur die ‘Big Bang’ en evolusie geskep het.  Ander dink dat die dae van Genesis 1 lang tydperke is.  Die ateïs sê:  ‘Geen intelligente persoon glo meer in God, ‘n jong aarde of ‘n 6 dae skepping nie’.  Dit klink amper soos die Fariseërs:  “Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs?” (Johannes 7:48).  So asof die stem van die meerderheid iets waar of onwaar maak.  Party Christene is gou om te sê:  ‘Genesis 1 is nie ‘n wetenskap handboek nie en moet ook nie so hanteer word nie’.  Die Bybel sal nooit in teenstelling wees met die feite van die natuur nie.  Omdat evolusie nie ‘n wetenskap is nie, is die waarheid dat evolusioniste in die sfeer van godsdiens beweeg, en nie Christene in die sfeer van wetenskap nie.

Die begin en einde van die Bybel is soos ‘n spieëlbeeld (ek het dit tydens ‘n Shepherds’ Conference by Bill Barrick geleer).

A1  Die mens is volmaak en daar is geen sonde of dood in die wêreld nie (Genesis 1-2).

      B1  Sonde en dood kom in die wêreld in.  Mense word wel baie oud, maar sterf steeds (Genesis 3, 5).

            C1  Diere leef in ‘n gevalle wêreld, maar is herbivore tot na Noag se vloed (Genesis 1:30, 6:21, 9:3).

                  D  Jesus word mens om ons deur sy kruisdood en opstanding te red van sonde en dood (Jesus is middelpunt van die                                         geskiedenis).

            C2  Voordat Jesus kom sal diere in ‘n gevalle wêreld weer herbivore wees (Jesaja 65:25, volgens v.20 gebeur hierdie in ‘n                                 wêreld waar sonde en dood nog bestaan).

      B2  Nog voordat Jesus weer kom en finaal ‘n einde aan sonde en dood maak, sal mense weer baie oud word (Jesaja 65:20).

A2  Die mens sal weer volmaak wees en lewe in ‘n wêreld waar daar geen sonde en dood is nie (Openbaring 21:4, 8, 22:3, 15).

Genesis 1:1 sê dat God die hemel en die aarde gemaak het.  Die eerste woorde in v.2 (die aarde) wys vir ons dat Moses nie vir ons van die skepping van engele of die val van Satan wil vertel nie (daarvan kan jy lees in Kolossense 1:16 en Esegiël 28).  Hy fokus spesifiek op die skepping van die aarde en die res van die heelal in verhouding daartoe.  Hier is wat hy sê:

1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

 

3  En God het gesê:  Laat daar lig wees!  En daar was lig. 4 Toe sien God dat die lig goed was.  En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; 5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem.  En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

 

6 En God het gesê:  Laat daar ‘n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. 7 God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is.  En dit was so. 8 En God het die uitspansel hemel genoem.  En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.

 

9 En God het gesê:  Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word.  En dit was so. 10 En God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die waters het Hy see genoem.  Toe sien God dat dit goed was. 11 En God het gesê:  Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde.  En dit was so. 12 Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte.  Toe sien God dat dit goed was. 13 En dit was aand en dit was môre, die derde dag.

 

14 En God het gesê:  Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. 15 Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde.  En dit was so. 16 God het toe die twee groot ligte gemaak:  die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. 17 En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde 18 en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis.  Toe sien God dat dit goed was. 19 En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.

 

20 En God het gesê:  Laat die waters wemel met ‘n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel. 21 En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte.  Toe sien God dat dit goed was. 22 En God het hulle geseën en gesê:  Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder. 23 En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.

 

24 En God het gesê:  Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte:  vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte.  En dit was so. 25 En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte.  Toe sien God dat dit goed was.

 

26 En God het gesê:  Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê:  Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. 29 Verder het God gesê:  Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra.  Dit sal julle voedsel wees. 30 Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ‘n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel.  En dit was so. 31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.  En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.” (Genesis 1).

Wanneer het God geskep? (v.1a)

‘n Christen het eenkeer vir my gesê:  ‘Die Big Bang is nou wetenskaplik bewys.  Geleerdes kan selfs vir ons sê wat die presiese temperature was nano-sekondes nadat die ontploffing plaasgevind het’.  Hoe bewys jy dit?  Die waarheid is dat mense in die Big Bang en evolusie glo.  Hierdie ‘studievelde’ is nie wetenskap nie, maar net soveel godsdiens soos Genesis 1.  Evolusie sê vir ons:  ‘In die begin het materie…’  Die Bybel sê:  ‘In begin het God…’

As God in die begin reeds daar was beteken dit Hy is voor tyd, buite tyd en ewig.  Van Jesus sê Johannes:  “In die begin was die Woord” (Johannes 1:1).  Net soos God in Genesis 1, is Jesus in Johannes 1 voor en buite tyd.  Hy is die ewige God.  Op ‘n ander plek het Moses gesê:  “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.” (Psalm 90:2).  Omdat net God in die begin daar was, kan net Hý vir ons sê hoe alles ontstaan het.  Hy sê vir ons dat dit gebeur het soos Genesis 1 sê.  Hy het nie deur die Big Bang of evolusie gewerk nie.  Die getalle in Genesis 5, 11 en die res van die Skrif sê vir ons dat dit omtrent ses duisend jaar gelede gebeur het (wanneer ek Genesis 5 preek sal ek hierop uitbrei).

Die naam Genesis beteken oorsprong of begin.  In Genesis lees jy van die eerste mense, huwelik, sonde, dood, profesie (Genesis 3:15), offer, profeet (Abel volgens Jesus in Matteus 23:35), priester, moord, stad, poligamie, gereedskap, musiek instrumente (Genesis 4:19-22), reën, nasies, koning, tale en nog meer.  Dit is belangrik dat ons die leerstelling oor die begin sal ken en glo voordat ons ‘n studie van die eindtyd (eskatologie) wil aanpak.  As Genesis 1 nie waar is nie, dan is daar geen sondeval in Genesis 3 nie.  Sonder Genesis 1 (die eerste Adam) kan jy nie die evangelie van Romeine 5 (die tweede Adam) verstaan nie.  Sonder Genesis 1 (die eerste skepping) kan daar nie ‘n nuwe skepping in 2 Korintiërs 5:17 en Openbaring 21:1 wees nie.  As jy die eerste hoofstuk van die Bybel in twyfel trek, sal dit makliker wees om die res van die Skrif te bevraagteken.  Laat ons eerder Paulus se voorbeeld volg:  “ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie” (2 Korintiërs 4:2).

Wat het God geskep? (v.1b)

Op 24 Desember 1968 het Apollo 8 die eerste vaartuig geword wat om maan gewentel het.  Die mense binne die vaartuig het gesê:  “In die begin het God die hemel en die aarde gemaak.”

 

God het die hemel, die aarde en alles daarin gemaak (v.1b, Eksodus 20:11).  In die Hebreeuse teks is hemel eintlik in ‘n meervoud (hemele).  Daardeur beklemtoon Moses die grootheid van die hemelruim.  Dit mag ook wees dat hy ons aandag op die verskillende vlakke van die hemel wil vestig:  die atmosfeer, die sterreruim en die hemel waar engele woon (is dit dalk die rede hoekom Paulus in 2 Korintiërs 12:2 van die derde hemel praat?).  Wie is die God wat alles geskep het?  Die Hebreeuse woord vir God is Elohim.  Hierdie woorde bestaan uit ‘n n enkelvoudige stamvorm met ‘n meervoudige agtervoegsel.  Dus praat dit hier van een God, maar van meer as een persoon.  Vers 26 onderstreep dit:  “En God [enkelvoud] het gesê:  Laat Ons [meervoud] mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (ek sal later wys waarom God nie hier met die engele praat of net die sogenaamde ‘koninklike meervoud’ gebruik nie).

In v.2 sien ons dat die Gees van God betrokke was in die skepping.  Die woord vir ‘Gees’ kan ook met wind of asem vertaal word, maar ‘n wind of asem kan nie oor water vladder nie (Moses gebruik dieselfde Hebreeuse woord in Deuteronomium 32:11).  Job 33:4 sê:  “Die Gees van God het my geskape”.  En Psalm 104:30:  “U stuur u Gees uit, hulle word geskape”.  Die Heilige Gees is ook betrokke in die nuwe skepping (Johannes 3:5, 2 Korintiërs 5:17).  Volgens Moses het God die heelal gemaak deur te sê (v.3).  Die dinge wat jy sê is jou woorde.  Johannes leer vir ons dat Jesus die Woord is wat alles gemaak het (Johannes 1:1-3, 14).  God, die Gees en die Woord – die Drie-Enige God – is die Skepper van alle dinge.

As Jesus die Skepper is kan Hy nie ook ‘n skepsel wees nie.  Óf Hy’s die Skepper, óf Hy’s ‘n skepsel – Hy kan nie beide wees nie (die Jehova’s Getuies glo God het deur Jesus geskep, maar glo dat Jesus self geskep is).

As alles deur die Big Bang en evolusie ontstaan het, dan is daar geen doel in die lewe nie.  Jy kan leef soos jy wil en het meer as genoeg rede om depressief te raak of selfmoord te pleeg.  Maar as God alles gemaak het, dan is niks per ongeluk hier nie.  Die lewe het ‘n doel.  Wat is dit?  Die hele skepping – veral die mens – moet God verheerlik (Psalm 19:2, Jesaja 43:7).  Sonde verheerlik God nie.  Daarom moet Jesus eers met sonde afreken voordat ons God kan verheerlik.  Net die wat in Christus is kan God verheerlik, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6).

Hoe het God geskep? (v.1-31)

Daar is ten minste twaalf dinge wat ons kan uitwys:

[1] Orde uit chaos (v.2).  God het eers die rou produk gemaak, en dit toe oor ‘n bestek van ses dae ingevul.  Dis amper soos ‘n pottebakker wat ‘n stuk klei vat en iets ordelik daaruit voortbring.  Daar is mense wat glo dat God alles in v.1 geskep het.  In v.1 het Satan tot ‘n val gekom en die dinosaurusse het uitgesterf.  Hierdie mense sê dat v.2 eintlik soos volg vertaal moet word:  ‘Die aarde het woes en leeg geword’.  In v.3-31 het God dan die wêreld oorgeskep.

Hoe moet ons reageer?  Hierdie hele storie staan nêrens in die teks nie.  Buitendien is die werkwoord in v.2 ‘n perfektum.  Dit beteken nie:  ‘Die aarde het woes en leeg geword’ nie, maar:  ‘Die aarde was woes en leeg’.  Indien daar wel ‘n skepping was waarin Satan geval het en dinosaurusse uitgesterf het, lieg God wanneer Hy in v.31 sê:  “dit was baie goed”.

Hoe kon dinosaurusse uitgesterf het voordat die mens op aarde was?  Die Bybel sê dan dat dood en die vervloeking daarvan in die wêreld ingekom het toe die mens gesondig het (3:17, Romeine 5:12, 8:19-22).  As daar reeds in v.3-31 ‘n tweede skepping is maak Openbaring 21:1 nie sin nie:  “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan”.  Johannes moes dan eintlik gesê het:  “die tweede hemel en die tweede aarde het verbygegaan”.  God self sê dat Hy in ses dae die hemel, die aarde, die see en alles daarin gemaak het (Eksodus 20:11).  Daarom kon daar nie ander skepsels gewees het voor Genesis 1:3 nie.

Hoor ek ‘n beswaar:  ‘Maar Jesaja en Jeremia dui dan aan dat die aarde woes en leeg geword het.  Dit lyk of hulle tog vir ons wil sê dat daar ‘n wêreld voor Genesis 1:3 bestaan het’?  Kom ons kyk wat hulle sê.  Jesaja skryf:  “Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God! —wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.” (Jesaja 45:18).  Jesaja sê eenvoudig vir ons dat God nie die aarde in sy rou en woeste vorm gelos het nie.  Hy het dit gevorm en ingevul.  Jeremia sê:  “Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie.” (Jeremia 4:23).  Jeremia praat nie hier van die skepping nie, maar gee ‘n prentjie van hoe dit gelyk het nadat die Babiloniërs Israel se stede verwoes het:  dit het gelyk soos voor die skepping – woes en leeg.

Net soos met die eerste skepping bring God in die geestelike skepping (wedergeboorte) lig en orde uit die chaos en duisternis van sonde (2 Korintiërs 4:6, 5:17).  As God dít kan doen, moet Christene wie se huwelike, gesinne en harte in choas is, moed skep.  God kan ook in hierdie gemors orde skep.

[2] Uit niks (v.1).  Net God was in die begin daar.  Dan het Hy nie materie gebruik om die skepping tot stand te bring nie.  Die Nuwe Testament bevestig dit:  “[God wat] die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.” (Romeine 4:17).  “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.” (Hebreërs 11:3).  Moenie aan ‘niks’ dink as iets wat bestaan nie.  Net God was daar.  Alles het dus uit Hom ontstaan, “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge” (Romeine 11:36).

[3] God het gesê (v.3).  Hierdie refrein kom tien keer voor in die hoofstuk.  Die Psalmis sê:  “Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër…want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan.” (Ps.33:6, 9, cf. Johannes 1:1-3, Hebreërs 11:3).  Dieselfde magtige Woord wat geskep het, is die Woord wat ons verkondig.  Ons moet vertroue hê dat God groot dinge sal doen as ons sy Woord suiwer verkondig in die krag van die Heilige Gees:  “so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” (Jesaja 55:11, cf. Esegiël 37).

[4] Skeiding (v.4, 7, 14).  God het skeiding gemaak, omdat hy ‘n God van orde is.  Ons moet so wees.  As ons geen onderskeid tref nie, dan is ons nie soos God nie:  “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.” (Jesaja 5:20).  “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?  En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?  Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?  Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het:  Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.  Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” (2 Korintiërs 6:14-18).  Paulus bid dat ons die beste dinge mag onderskei (Filippense 1:9-10).

God wil hê jy moet onderskei tussen dag en nag.  Werk in die dag en slaap in die nag.  Daar moet ook in jou gedagte ’n onderskeid tussen geestelike lig en duisternis wees.  Dank Hom dat jy nie meer in duisternis lewe nie, maar dat jy in die lig wandel (Handelinge 26:18, Kolossense 1:12-13, 1 Petrus 2:9).  In die eerste wêreld het God die see, nag en donker geskei van die atmosferiese waterkoepel, dag en lig.  In die nuwe wêreld sal daar nie meer ‘n see, nag of donker wees nie (sien Openbaring 21-22).

[5] Benaming.  Op dag 1-3 het God name aan sekere dinge gegee.  Om name te gee is ‘n uitdrukking van gesag (cf. 2 Konings 23:34).  Die mens is na God se beeld gemaak en wys ook sy gesag deur name te gee (2:19-20, 3:20).

[6] Maak.  Op dag 4-6 het God nie net gesê dinge moet bestaan nie, maar Hy het dit gemaak.  Dit wys vir ons dat Hy aktief en intiem betrokke is in sy skepping.  God het grond gebruik om die diere en vir Adam te maak (v.24, 2:7, 19).  Hy het die vrou uit een van Adam se ribbes gemaak (2:21-23).  Omdat die mens na God se beeld gemaak is, kan hy ook materiaal neem om dinge te skep.

[7] Goed.  Dwarsdeur die hoofstuk sê God dat dinge goed is.  Net toe Hy die man sonder ‘n vrou gemaak het, het Hy gesê dat dit nie goed was nie (2:18).  Toe Hy klaar die vrou gemaak het was sy skepping voltooi.  Toe het Hy gesê dat dit baie goed is (v.31).  Omdat God se skepping goed is moet en kan ons dit geniet.  Ons moenie asketies wees en sê dat mense nie sekere kosse mag eet, of dat ‘n mens nie mag trou nie (1 Timoteus 4:4).  Ja, deur die sondeval het daar baie slegte dinge in die wêreld ingekom.  Maar Jesus sal alles herstel, sodat dit weer goed is.  Hy doen immers alle dinge goed, en werk alles ten goede mee vir die wat Hom liefhet (Markus 7:37, Romeine 8:28).  As God alles goed gemaak het, moet ons nooit sê dat die oorsaak van sonde is nie.

[8] Na sy soort (v.11-12, 21, 24-25).  ‘Soort’ is nie presies dieselfde as ‘spesie’ nie (sien Levitikus 11:14-16, 19, 22, 29 vir verskillende soorte).  Daar is variante in spesies, maar daar is geen wetenskaplike bewys dat ‘n uilsoort ooit in ‘n haai of ‘n bloekomboom verander het nie.  Dit kan buitendien nie gebeur nie, want daar kan nie nuwe inligting in die DNA bygevoeg word, sodat ‘n walvis voete ontwikkel nie.  Gestel ‘n sekere soort vis het uit die see uitgekom en op die land begin lewe.  Hoe het dit gebeur dat hy nie meer kuwe gehad het nie, maar longe?  Dit kan ontmoontlik gebeur.  Wat was die tussen-in fase (tussen water en lug) waarin die half-vis/half-dier kon oorleef?  Die bombardier beetle is ‘n goeie voorbeeld om die punt te bewys.  Wayne Grudem skryf:

“[The Bombardier beetle] repels enemies by firing a hot charge of chemicals from two swivel tubes in its tail.  The chemicals fired by this beetle will spontaneously explode when mixed together in a laboratory, but apparently the beelte has an inhibitor substance that blocks the explosive reaction until the beetle squirts some of the liquid into its ‘combustion chambers,’ where an enzyme is added to catalyze the reaction.  An explosion takes place and the chemical repellent is fired at a temperature of 212°F (100°C) at the beetle’s enemies.” (Systematic Theology, Inter-Varsity Press, NOTTINGHAM, 1994, 2000, p.281).

Dit is onmoontlik dat die meganisme deur miljoene jare van evolusie ontwikkel het.  Dit moes die eerste keer gewerk het, want anders sou die gogga ontplof het of sy vyande sou hom geëet het.  God het dit van die begin af gemaak om te werk.

As Christene moet ons die verskillende soorte in God se skepping aanvaar en respekteer.  Genetiese manipulasie (‘n proses waarin mielies byvoorbeeld bestand gemaak word teen siektes, onkruid-doder of insekte) in plante en diere is nie noodwendig verkeerd nie (ons is immers aangestel om oor die skepping te heers), maar ons moet versigtig wees dat ons nie goed voortbring wat mense sal benadeel, siektes laat versprei, laer voedingswaarde het, sukkel om natuurlik voort te plant of ‘n swakker spesie is nie.  Ons moet die skepping oppas en nie vernietig nie; ons moet ons naaste liefhê soos onsself.  “Julle moet my insettinge hou.  Twee soorte van jou vee mag jy nie laat paar nie.  Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie.” (Levitikus 19:19).  “Jy mag in jou wingerd nie twee soorte saad saai nie, anders verval die volle opbrings aan die heiligdom:  die saad wat jy saai en die opbrings van die wingerd.” (Deuteronomium 22:9).

Mense wat wat Genesis 1en evolusie wil glo, sê in effek:  ‘God het gesê, Laat die aarde voortbring na sy soort.  Na 387 492 71 pogings het God uiteindelik ‘n muis gemaak wat werk.’ (Grudem, Systematic Theology, p.276).  As jy sê dat God deur willekeurige mutasie of evolusie geskep het, dan ontken jy evolusie (evolusie werk deur willekeurige prosesse van toeval).  As evolusie waar is, dan is daar ‘n probleem met sekere fossiele.  Wetenskaplikes het ‘n fossiel van ‘n vis ontdek en gesê dat dit 400 miljoen jaar oud is.  In die 1930’s het hulle die vis (die coelacanth) ontdek.  Hoekom het daar geen evolusie plaasgevind nie?  Hoekom lyk die vis nog presies dieselfe?  Hulle sal sê:  ‘Dis ‘n voorbeeld van evolusionêre stasis’.  In gewone Afrikaans:  ‘Evolusie het opgehou’.  Met ander woorde, die feit dat geen verandering plaasgevind het nie (stasis) bewys dat verandering wel plaasvind (evolusie)!  As evolusie waar is, moet ons vra:  ‘Daar is hordes aapsoorte en bijoene mense, maar waar is al die tussen-in soorte?’

[9] Spreuke 24:27-styl:  “Maak jou werk buitekant reg, en bring dit vir jou op die land in orde; daarna moet jy dan jou huis bou.”  Op dag 1-3 het God die habitat reggekry, en op dag 4-6 het Hy dit ingevul.  Adam en Eva was nie soos my vrou se vriendin wat in hulle huis gebly het terwyl daar bouwerk aan die gang was nie.  God het eers die ‘huis’ (die wêreld) heeltemal klaar gebou, voordat Adam en Eva op dag 6 ‘ingetrek’ het.

[10] Seën vir voortplanting (v.22, 28, 8:17, 9:1).  Evolusie sê dat die uitsterf van baie soorte diere deel van ‘n normale proses is.  In v.22 sê Moses dat die vermeerdering van diere ‘n seën is.  Wanneer diere uitsterf is dit nie deel van ‘n normale proses nie, maar ‘n vervloekte gevolg van die sondeval.

Evolusie sê dat lewe uit ‘n enkelsellige wese ontstaan het.  Soos jy weet is daar nie ‘n mannetjie en wyfie sel wat nuwe selle voortbring nie.  So ‘n sel kan homself vermenigvuldig; vermeerdering geskied a-seksueel.  In seksuele voortplanting word net 50% van die gene oorgedra.  Om a-seksueel te vermeerder is dus meer voordelig.  Volgens evolusie oorleef die sterkste spesie.  Vordering is onlosmaaklik deel van evolusie.  Hoe is die ontwikkeling van seksualiteit verbetering?  Indien lewe in die begin a-seksueel was, waar het die DNA se informasie vir geslag vandaan gekom? 

 

God se opdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder was ‘n soewereine bevel oor die diere:  “En God het hulle geseën en gesê:  Wees vrugbaar en vermeerder” (v.22).  Wanneer dit paar seisoen is kan diere nie hulle lus beheer nie; hulle plant voort deur instink.  Met mense is dit anders.  As gevolg van die sondeval is ons slawe van wellus, maar voor die sondeval was dit nie so nie.  God het nie net ‘n soewereine bevel gegee dat mense moet voortplant nie.  Hy het ‘n gebod gegee wat mense kan nakom of nie:  “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê:  Wees vrugbaar en vermeerder” (v.28).  Indien evolusie waar is, is wellus deel van die dierlike natuur in ons.  Volgens die Bybel is wellus sonde en moet ons daarteen stry (Matteus 5:27-30).  Glo jy dis nie sonde nie?  Kyk maar na hoe pornografie huwelike vernietig en huise opbreek.

Let tog op dat God die man en vrou geseën het om kinders te hê.  Homoseksuele paartjies kan nie kinders hê nie.  God se seën rus nie op hulle nie; homoseksualiteit is ‘n vloek (cf. Romeine 1:26-27).  As menselike voortplanting ‘n seën is (v.28), moet kinders nie as ‘n las beskou word nie:

“Kyk, seuns is ‘n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ‘n beloning…Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het!  Hulle sal nie beskaamd staan as hulle met die vyande in die poort spreek nie.” (Psalm 127:3, 5). 

 

“Jou vrou is soos ‘n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel.  Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat die HERE vrees.” (Psalm 128:3-4). 

 

“En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie…Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak.” (Psalm 107:38, 41). 

Die wêreld is nie oorbevolk nie.  Daar is meer as genoeg plek en kos as mense net nie so selfsugtig was nie.  Moenie ongehoorsaam wees aan hierdie opdrag indien jy kinders kán hê nie.  Ek sê nie mense wat 3 kinders het is minder geestelik as die wat 8 het nie.  Dié wat 10 of 15 kinders wil hê moet ook onthou:  As jy nie vir jou baie kinders kan sorg nie is jy slegter as ‘n ongelowige (1 Timoteus 5:8).  As jy ‘n dosyn kinders het en dit kan regkry om hulle almal groot te maak – goed en wel.  Maar as jy die ouer kinders moet begin inspan om hulle klein boeties en sussies groot te maak, is jy ongehoorsaam aan Efesiërs 6:4 wat sê jý moet dit doen.  In jou opvoeding moet jy nie nalaat om jou kinders te leer van die God wat hulle geskep het en Jesus wat gekom het om sondaars te verlos nie.

[11] Ses dae (v.31).  Daar is mense wat sê die dae in Genesis 1 was lang tydperke.  Hulle is verkeerd:

  • Aan die einde van elke skeppingsdag sê Moses:  “En dit was aand en dit was môre” (v.5, 8, 13, 19, 23, 31).  Dit klink nie soos ‘n lang tydperk nie, maar soos ‘n gewone dag.
  • Die son en maan is gemaak vir dae en jare (v.14).  ‘n Dag is nog altyd een omwenteling van die aarde om sy eie as.  So sou die lesers van Psalm 74:16 dit verstaan het:  “Aan U behoort die dag, aan U behoort ook die nag; U het hemelligte en son vasgestel.”
  • Hoekom sou dag en nag in Genesis 1 iets anders beteken as in Genesis 8:22:  “Van nou af sal…dag en nag nie ophou nie.”?
  • “Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie…Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus.  Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Eksodus 20:9-11).  Moses sê ons moet ses dae werk, omdat God ses dae gewerk het.  Die woord ‘dag’ beteken niks anders as ‘n tydperk van 24 uur nie.
  • Jesus het gesê:  “van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak.” (Markus 10:6).  Indien die mens miljoene jare na die res van die skepping ontstaan het, sou Jesus dit nie die begin genoem het nie.
  • Op dag 5 het God vlieënde insekte en voëls gemaak.  Hoe sou hulle die plante (dag 3) bestuif het as hulle miljoene jare later gemaak is?  Die see is voor die son gemaak.  As elke dag ‘n paar miljoen jaar was, sou die see gevries het.  Die son is na die plante gemaak.  Hoe sou die plante vir miljoene jare oorleef het?

Moenie met die Skrif peuter nie.  Ons moet dit altyd letterlik interpreteer en verstaan.  Dit is slegs as ‘n letterlike interpretasie nie sin maak nie (soos bome wat hande klap in Jesaja 55:12) wat ons dit figuurlik kan interpreteer.  Hier is nog ‘n paar gedagtes oor die ses dae.

DAG 1:  God skei die lig en duisternis van mekaar (v.3-5).  Hoe kon daar lig gewees het voor die son?  Op die nuwe aarde sal daar nie ‘n son wees nie, want God self is die lig (Openbaring 21:23, cf. 1 Johannes 1:5).  Omdat hierdie dinge so is hoef ons nie die donker te vrees nie.  Ons moet ook nie dink dat ons in die donker kan sondig en daarmee wegkom nie:  “En as ek sê:  Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.” (Psalm 139:11-12).  Ook op ‘n geestelike vlak moet ons God se lig reflekteer soos wat die maan met die sonlig doen.  Jesus het gesê:  “Ek is die lig van die wêreld” (Johannes 8:12).  Vir sy kinders sê Hy:  “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).  Die duisternis het God nie weerstaan toe Hy gesê het die lig moet dit verdryf nie.  Net so kan die sondaar se donker hart nie voor die Here stand hou as Hy sy lig daarin skyn nie:  “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” (2 Korintiërs 4:6).

DAG 2:  God het die atmosfeer gemaak om die waters van mekaar te skei (v.6-8).  Die water bo die atmofseer mag moontlik ‘n verwysing wees na die wolke (Psalm 104:13).  Dit is ook moontlik dat daar ‘n waterkoepel bo die aarde was.  Dit sou temperature konstant hou, lugvloei tot ‘n minimum beperk, ‘n mis laat opkom (2:6), die lug vogtig hou en skadelike strale uitfilter.

DAG 3:  God het die see en die land geskei en verskillende bome en plante op die land laat groei (v.9-13).  Psalm 104:6-9 verduidelik hoe die water alles bedek het, en hoe God die land laat opstyg het.  Die water het Hy see genoem en ‘n grens gestel wat dit nie mag oorskry nie (cf. Job 38:8-11).  Baie van die water het onder die aarde ingeloop.  Die plante wat Hy op die aarde laat groei het sou dien vir vog, suurstof, die beperking van erosie, kos, koelte en ‘n tuiste vir baie diere.  Kan jy jouself voorstel hoe pragtig dit moes gewees het?  Een oomblik was daar net klippe en grond.  Binne ‘n paar ure was daar volwasse bome, gras, plante, allerhande kleure blomme en vrugte?

DAG 4:  God skep die son, maan en sterre om te heers oor die dag en die nag (v.14-19).  God is die Skepper hiervan en kan onder sekere omstandighede beveel dat die son in die middel van die nag moet skyn (soos in Josua 10 en by die Pole).  Hy kan ook beveel dat die son om 12:00 die middag moet ophou skyn (soos in Matteus 27:45 en by die Pole).  Let op dat die name ‘son’ en ‘maan’ nie in Genesis 1 voorkom nie.  Die rede was sekerlik om te verhoed dat die Israeliete hulle sou aanbid (soos wat hulle in Egipte geleer het).  Hierdie dinge is geskep om God te verheerlik en ons te dien.  Daarom moet ons húlle nie aanbid nie (bv. deurdat mense hulle vertroue stel in ‘horoscopes’).

Sommige sterre se lig neem miljoene jare om die aarde te bereik.  Beteken dit dat die aarde miljoene jare oud is?  Nee.  Nog voordat God die sterre gemaak het, het Hy op dag 1 die lig geskep.  God het in ses dae die aarde en die sterre geskep, en ook die lig wat tussen die twee strek.  Ek wonder hoe versoen evolusioniste ‘n heelal wat 4.6 biljoen jaar oud is met sterre wat 10 of 20 biljoen ligjaar weg is?

DAG 5:  God skep voëls en seediere (v.20-23).  Die woord vir ‘voëls’ is letterlik ‘vlieënde dinge’ en sluit dus ook vlieënde insekte en soogdiere soos vlêrmuise in (die Hebreeuse woord word so gebruik in Levitikus 11:13, 19-20).  Die groot seediere sou ook verskeie soorte dinosaurusse insluit (die beskrywing van Leviatan in Job 40-41 dui op ‘n soort see dinosaurus).  As dinosaurusse uitgesterf het voor Adam en Eva, sou primitiewe mense nie so baie van hulle geweet het nie.  Waar kom die Bybelskrywers aan drake en seemonsters? (cf. die figuurlike gebruik hiervan in Jesaja 27:1).  God in sy wysheid het sommige diere met skubbe en vinne gemaak, en ander met vere om by hulle habitat te pas.

DAG 6:  God skep die mens en landdiere (v.24-31).  Van die begin af het God mak en wilde diere gemaak.  Dit is nie so dat ‘n hele klomp diere êrens in die geskiedenis mak of wild geword het nie (ek ontken nie dat die mens wilde diere kan mak maak, of dat mak diere gelos kan word om wild te word nie).  ‘Kruipende diere’ sou diere onder meer rotte, muise, akkedisse, slange, spinnekoppe, miere, goggas insluit.

God het plante en vrugte gegee as kos vir mense en diere.  Dalk wonder jy hoe diere met skerp tande (soos leeus) herbivore kon wees.  Vandag nog is daar diere met skerp tande wat net plante en vrugte eet (soos pandabere en vrugte vlêrmuise).  Natuurlik sou daar nie giftige plante gewees het voor Genesis 3 nie.  Soos in Openbaring 22:2 sou al die nodige voeding en gesondheid in die plante en hulle vrugte en sade gewees het.  Na die vloed het die mens se dieet verander en kon hy vleis eet (9:3).  Onder die wet kon hy net sekere soorte vleis eet (Levitikus 11).  In die Nuwe Testament het sy dieet alle kosse ingesluit.  Jesus sê in Markus 7:18-19 (ESV):  “Do you not see that whatever goes into a person from outside cannot defile him, since it enters not his heart but his stomach, and is expelled’ (Thus he declared all foods clean.)”  In 1 Timoteus 4:3-5 waarsku Paulus teen vals leraars wat sê “dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.  Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.”  In die millennium en die hemel sal mense weer vrugte en groente eet (Jesaja 65:25, Openbaring 22:2).  Wat moet ons hiervan maak?  Dis nie ‘n probleem as jy sekere kosse uitsny omdat jy nie baie van die smaak hou nie.  Maar moenie soos die Adventiste ‘n vegetarieër dieet volg vir godsdienstige redes nie.

Ter opsomming kan ons sê dat geen Christen Genesis 1en evolusie kan glo nie.  Let maar op die oorhoofse verskille tussen hierdie twee wêreldbeskouings.

EVOLUSIE                                         SKEPPING

Land voor see                                                    See voor land

Son voor aarde                                                 Aarde voor son

Sterre voor aarde                                            Aarde voor sterre

Dinosaurusse voor voëls                              Voëls voor dinosaurusse

Diere voor bome                                              Bome voor diere

Kanker voor mens (dinosaurusse)           Mens voor kanker

Dood voor mens                                               Mens voor dood

Dorings voor mens                                          Mens voor dorings

Ongelowiges kan nie die Skrif reg verstaan nie (1 Korintiërs 2:14, Johannes 5:39).  God moet hulle harte verander om die evangelie te glo en dán kan hulle die Bybel reg verstaan:

“Maar hulle sinne is verhard.  Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word.  Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem.  Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.  En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Korintiërs 3:14-18). 

As Christene moet ons leer om die Bybel te glo omdat dit God se Woord is.  Glo wat God sê – al verstaan jy nie nou alles nie.

Moet Genesis 1 begrawe word?

Looking up from grave

Sedert die advent van evolusie 150 jaar gelede, het Christene al hoe minder aandag begin gee aan Genesis 1.  Ons kan nie hierdie hoofstuk stief behandel of begrawe nie, want Genesis 1 bepaal hoe jy die wêreld beskou.  Is daar iets soos diereregte?  Hoe moet ons die natuur oppas?  Hoe lyk ‘n Christelike beskouing op werk?  Hoekom is daar lyding en dood in die wêreld?  Die psalmis het sy siening oor al hierdie dinge (en nog meer) uit Genesis 1 gekry.  Die skrywer van Psalm 104 het elkeen van die 6 skeppingsdae oordink.  Ons kan gerus sy voorbeeld navolg.  Leer sommer terselfdertyd vir jou kinders hierdie belangrike hoofstuk, en beskerm hulle teen die valsheid van evolusie.

Die psalmis skryf:

1 Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot!  Met majesteit en heerlikheid is U bekleed—2 wat Uself omhul met die lig soos met ‘n kleed,

 

wat die hemel uitspan soos ‘n tentdoek; 3 wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel, 4 wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars.

 

5 Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie. 6 U het dit met die wêreldvloed soos met ‘n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan. 7 Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik—8 berge het opgerys, laagtes het weggesak—na die plek wat U vir hulle reggemaak het. 9 ‘n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie. 10 Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes:  tussen die berge loop hulle deur. 11 Hulle laat al die diere van die veld drink; die wilde-esels les hulle dors. 12 By hulle woon die voëls van die hemel; tussen die takke uit laat hulle die stem hoor. 13 Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke. 14 Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom, 15 en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk. 16 Die bome van die HERE word versadig, die seders van die Líbanon wat Hy geplant het; 17 waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is. 18 Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is ‘n skuilplek vir die dasse.

 

19 Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan. 20 U beskik die duisternis, en dit word nag, waarin al die diere van die bos uitkruip. 21 Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God. 22 As die son opgaan, dan trek hulle hul terug en gaan lê in hul slaapplekke. 23 Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.

 

24 Hoe talryk is u werke, o HERE!  U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! 25 Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ‘n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes. 26 Daar gaan die skepe en die Leviátan wat U geformeer het om daarin te speel.

 

27 Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. 28 U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie. 29 U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. 30 U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.

 

31 Laat die heerlikheid van die HERE vir ewig wees, laat die HERE bly wees oor sy werke, 32 Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook. 33 Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is. 34 Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die HERE! 35 Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie!  Loof die HERE, o my siel! Halleluja!” (Psalm 104).

Dag 1 (v.1-2a)

In v.1-4 beskryf die psalmis God as ‘n Koning:  Hy dra ‘n koninklike kleed, woon in sy koninklike kwartiere, ry in sy strydwa, het boodskappers en dienaars.  Die psalmis sê dat God Homself “omhul met die lig soos met ‘n kleed” (v.2a).  Dit herinner ons aan die eerste skeppingsdag waar God lig gemaak het (Genesis 1:3-5).  God het lig gemaak voordat Hy die son gemaak het, omdat Hy self lig is (1 Johannes 1:5).  God woon in ontoeganklike lig (1 Timoteus 6:16).  Omdat Jesus die duisternis van sonde verdryf, kan ons deur Hom tot God nader:  “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig:  God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.  As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1 Johannes 1:5-7).

Dag 2 (v.2b-4)

Op die tweede dag het God die waters van mekaar geskei deur die hemel wat Hy uitgestrek het soos ‘n tent (v.2b).  Die water onder die uitspansel noem ons see, en die water bo die uitspansel verwys waarskynlik na reënwolke (die psalmis praat van wind en wolke in v.3-4, cf. Genesis 1:6-8).  In v.3 sê die psalmis dat God sy solders (sy woning, die hemel) op die waters gebou het.  Heel moontlik kyk hy oor die see na die horison – daar waar die blou hemel en die water mekaar ‘ontmoet’.  Wanneer hy van wind en wolke praat, beskryf hy dit as ‘n strydwa (v.3).  Die rede is eenvoudig, omdat die gedreun van donderweer klink soos ‘n strydwa met perde.  Laastens sê die digter dat God sy winde boodskappers maak en vuurvlamme sy dienaars.  Die vers kan ook andersom geskryf word:  ‘God maak sy boodskappers winde en sy dienaars vuurvlamme’.  Dit is hoe die Nuwe Testament dit verstaan (Hebreërs 1:7).  God se boodskappers en dienaars (engele, 103:21) is so vinnig soos die wind; hulle is soos ‘n vuur (cf. 2 Konings 2:11).  Omdat engele in die konteks van God se skepping genoem word, kan ons weet Hy het hulle gemaak.  Paulus sê:  “in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” (Kolossense 1:16).  Die God wat op donderwolke en gerubs ry is jóú God.  Laat dit jou aanspoor om Hom aan te roep wanneer jy in die moeilikheid is (cf. 18:10-12).

Dag 3 (v.5-18)

Op die derde dag het God die land en see van mekaar geskei.  God het ook  bome en plante uit die grond laat uitspruit (v.5-18, Genesis 1:9-13).  Hoe presies het Hy dit gedoen?  God het die aarde laat vasstaan (v.5).  Natuurlik het dit nie letterlik ‘n fondasie nie, maar dit is Hý wat dit in plek hou – selfs wanneer dit op ‘niks’ hang nie (Job 26:7).  In die begin was die hele aarde (ook die berge) met water bedek soos met ‘n kleed (v.6, Genesis 1:2).  Op God se bevel het die water onder die aarde se kors in verdwyn (v.7).  Soos wat die water weggesak het, het die berge sigbaar geword.  Ook die valleie kon later gesien word (v.8).  Hierdie massas water het die rotse laat erodeer, sodat dit gou ‘oud’ gelyk het.  God het ‘n volwasse skepping gemaak:  berge en bome het dadelik ‘oud’ gelyk.  Adam en Eva het volwasse gelyk toe hulle geskep is.  Die lig van sterre het nie miljoene jare geneem om te aarde te bereik nie:  God het die ster, die aarde en die lig tussen die twee dadelik geskep.

Lank ná die skepping het die water die aarde in die tyd van Noag weer oordek.  Maar dit sal nie weer gebeur nie (v.9, Genesis 9:11-16).  Nóú gee God water hoofsaaklik dat ons kan lewe, en nie om die wêreld uit te wis nie (v.10-16).  In die warm woestyn gee God water uit die grond.  Die voëls bou hulle neste in die bome wat langs die riviere staan.  Ook die wilde donkies les hulle dors hier (v.10-12, Job 39:5-8).

God gee ook water uit hemel (reën), sodat die plante kan groei (v.13, Job 5:10).  Die vorming van reën bewys dat ons God die ware een is:  “Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak?  Of kan die hemel reënbuie gee?  Is U dit nie, o HERE onse God?  En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge.” (Jeremia 14:22).  Die reën laat gras groei vir die diere (v.14).  Daardeur gee God ook vir ons wyn vir plesier, olie vir gesondheid en brood vir energie (v.14b-15).  God gee water vir sy bome wat Hy geplant het (v.16, dit is indrukwekkend dat God bepaal waar elke saad val, waar elke nuwe boom opkom).

God gee ook bome vir die voëls om hulle neste in te maak (v.17, 12).  Die berge bied veiligheid vir die bergbokke – dáár sal ‘n luiperd of ander groot kat sukkel om hulle te vang (v.18a).  In die rotse kan die dassies koelte hê en beskerm wees teen arende en ander roofvoëls (v.18b, Spreuke 30:26).

Watse lesse leer ons uit hierdie verse?  Daar is ten minste vier:

[1] Ons moet die Here baie meer dank vir reën.  Wanneer dit warm is kla ons oor te min reën.  En wanneer die Here reën stuur kerm ons omdat dit te veel reën.  Dank God eerder vir reën.  Laat dit jou ook herinner aan die lewende water wat ons in Jesus Christus vind (Johannes 4:14).  Soos wat niemand sonder water kan leef nie, kan niemand sonder Hom die ewige lewe hê nie (Johannes 14:6).

[2] God het wyn, olie, brood en ander dinge gegee om te geniet.  Moet dit nie misbruik of ‘n afgod daarvan maak nie.

[3] Moenie altyd dieselfde rympie opsê wanneer jy vir die kos dank nie.  Dink mooi wanneer jy of iemand anders die tafelgebed doen.  Wees regtig dankbaar.  Onthou ook dat God alles gemaak het.  As jy Hom daarvoor dank hoef jy nie ‘n gewetensbeswaar te hê oor iets wat jy eet nie:  “[vals leraars] gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.  Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.” (1 Timoteus 4:3-5).

[4] Het jy kos, klere of ‘n blyplek nodig?  God sê dat sy kinders meer werd is as voëls (Matteus 10:31).  As God vir die voëls neste gegee het, en skuiling vir die bergbokke en dassies, sal Hy nie ook vir jou gee wat jy nodig het nie?

Dag 4 (v.19-23)

Op die vierde dag het God die son en die maan gemaak om oor die dag en die nag te heers (v.19-23, Genesis 1:14-19:  die psalmis aanvaar dat Genesis se dae gewone 24 uur dae was).  In die nag sluip die diere rond:  die leeus jag beter wanneer hulle ‘onsigbaar’ is (v.20-21).  Wanneer die woestynson warm skyn slaap die leeus in die koelte van hulle den (v.22).  Die leeus eet nie omdat hulle so sterk is nie, maar omdat God vir hulle sorg (v.21, Job 39:1).  Te veel natuurprogramme maak asof oorlewing van blinde lot afhang.  Moet dit nie vir ‘n oomblik glo nie:  God beheer alles en sorg vir sy skepping (v.21).  God sorg ook vir die mens, maar die manier waarop Hy vir ons voorsien is deur werk.  ‘Werk in die en slaap in die nag’ is die normale patroon (v.23, 14-15, Genesis 3:19).  Jongmense moet hieruit leer om nie in die dag rond te lê en in die nag partytjies te hou nie.  Werkende Christene moet leer dat ons hard moet werk in die dag en nie angstig moet wakker lê in die nag nie:  “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet—net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!” (127:2).  Leer ook dat God nie verwag dat jy in die dag en nag hoef te werk nie (ek praat nie van nagskofte nie).  Werk hard, maar moenie ‘n afgod maak van werk nie.

Dag 5 (v.24-26)

Op die vyfde dag het God voëls en seediere gemaak (Genesis 1:20-23).  Die psalmis het genoeg gesê oor die voëls en verwys nou net na die seediere (v.24-26).  God se wysheid kan gesien word in die wye verskeidenheid van diere wat Hy gemaak het, asook in hulle getalle.  Ons sien ook sy wysheid in klein diere (soos plankton) en groot diere (soos walvisse).  Sy wysheid is sigbaar in die wonderlike skepsels wat Hy gemaak het (v.24-25):

  • Die Kelkiewyn (‘n tipe sandpatrys) het spesiale vere op sy bors.  Hy vlieg 50-80 kilometer ver om water te soek in die woestyn.  Wanneer hy water drink lê hy met sy bors in die water.  Die vere ‘suig’ die water op.  Hy vlieg terug en laat die kleintjies water drink uit sy vere.
  • Die witkoluil het twee donker kolle agter op sy kop.  Dit lyk soos oë.  ‘n Ander voël wat die klein uiltjie wil jag sal nie dadelik aanval nie, want hy dink die uil sien hom.
  • ‘n Speg (‘woodpecker’ in Engels) se kloue lyk anders as ander voëls s’n.  Waar ander voëls drie tone voor en een agter het, het die speg twee tone voor en twee agter.  Dit help dat die voël homself skuins teen ‘n boom kan stut (met versterkte stertvere om te help stut), terwyl hy teen die boomstam ‘boor’.
  • Die kapokvoël se nes het ‘n ‘vals’ ingang en ‘n regte een.  Net die voël weet waar die regte een sit.  Roofdiere (soos slange) kruip by die verkeerde ingang in en sien daar is niks eiers nie.  Die slang word geflous, en die eiers bly veilig in die nes.

Die aarde is vol van die Here se skepsels (v.24).  Daar is diere in die woestyne, die oseane, grotte, woude, pole, berge, valleie, vlaktes, die dun atmosfeer bo die aarde.

Die see hou ook voordele soos vissery en handel vir die mens in (v.26).  Die magtige Leviatan (die antieke naam van een of ander soort dinosaurus) is ‘n bewys van God se krag (v.26, cf. <st1:bcv_smarttag>Job 41, Jesaja 27:1).[1]  Die mens se krag vergelyk nie met hierdie magtige seedier s’n nie (Job 41:29).  Maar in vergelyking met God is Leviatan ‘n speelding (v.26, moontlike vertaling uit die Hebreeus).

Gelowiges moenie God se wysheid in die skepping miskyk nie.  Moenie altyd net in jou kantoor sit nie.  Kom ‘n bietjie in die skepping.  Leer die feite van sekere dinge in die natuur en sit dit om in lof vir God se wysheid.  Neem  iets op soos voëlkyk, tuinmaak, stap, sterrekyk.  Skryf in vir die Creation tydskrif of koop goeie natuur DVD’s by www.creation.com.  Moenie soos evolusioniste blind wees vir God se wysheid in die skepping nie.

Dag 6 (v.27-30)

Op die sesde dag het God mense en diere gemaak (Genesis 1:24-31).  Die psalmis beskryf hoe God mense en diere voed en onderhou.  God voed selfs die magtige Leviatan.  Hy gee vir elke skepsel sy kos op die regte tyd (v.27, cf. 147:9).  Die dolfyne, haaie, malgasse, robbe en walvisse moet wag totdat God die sardyne stuur.  Olifante, buffels en ander diere moet wag totdat die Okavango in vloed is.  Die leeus en krokodille moet wag totdat die wildebeeste oor die Mararivier trek om weiding te soek.  Voëls, vosse, ysbere en baie ander diere moet wag dat die arktiese ys smelt om kos te kry.  Alles kom uit God se hand:  wurms, vrugte, gras, vis, vleis (v.28):  “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.” (145:16).  Jy hoef nie te bekommer oor waar jou kos vandaan sal kom nie:  God sal sy hand oopmaak en vir jou sorg (sien Matteus 6:25-34).

Diere vrek en mense sterf as God wegkyk; as God reën en kos terughou (v.29).  God het vir Adam gesê:  “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem.  Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (Genesis 3:19).  Job 34:14-15 sê:  “As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer.”  As God nie reën gee nie vrek die klein olifantjie in die Kalahari.  As die see nie in ys verander nie, kry die ysbeer nie kos nie en vrek hy.  Die psalmdigter staar hom nie blind teen die wonderlike skepping, sodat hy van die sondeval (en gevolglik die dood) vergeet nie (v.29).  Maar hy kyk ook nie vas teen die dood nie.  Hy sien hoe daar nuwe gras uit die stof spruit na die reën, en onthou dat God eendag die wêreld sal herskep:  “U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.” (v.30).  Volg sy voorbeeld.  Onthou dat God mense weer uit die stof sal opwek (cf. Esegiël 37:9, Daniël 12:2).  Hy het reeds sy nuwe skepping begin deur die werk van wedergeboorte (2 Korintiërs 5:17).  Daardeur waarborg Hy dat Hy die hemel en aarde sal herskep (Openbaring 21:1).

Slotgebed (v.31-35)

Verse 31-35 is die psalmis se reaksie op sy oordenking van Genesis 1.  Mense en diere vergaan (v.29), maar God bly vir altyd (v.31).  God verbly Hom in ons (v.31, cf. Genesis 1:31, Spreuke 8:31) en ons in Hom (v.34).  As gevolg van sonde het God die wêreld vervloek.  Voordat God alles herstel sal Hy die wêreld skud en sondaars uitwis:  “Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook….Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie!” (v.32, 35).  Vir die wat in Jesus glo is daar nie straf nie, omdat Hy in sy kruisdood as ‘n goddelose mens behandel is namens ons.  Moenie soos die goddelose teen God rebelleer nie, maar gebruik jou lewe en asem om Hom te prys (v.33).

Wanneer laas het jy Genesis 1 gelees, bestudeer of oordink?  Wanneer laas het jy die Here geprys vir hierdie hoofstuk?  Moet dit nie met ‘n kritiese oog lees soos die liberalis wat foute soek nie.  Moet dit nie net lees om antwoorde teen evolusie te soek nie.  Lees, bestudeer en oordink dit om God te aanbid en sy lof te besing.  Dink aan die nuwe skepping in jou hart (weergeboorte) en aan dit wat kom by Jesus se wederkoms wanneer jy dit doen.  Mag jou oordenking vir God aanneemlik wees (v.34).


[1] Ek weet dat party vertalings Leviatan as ‘krokodil’ vertaal in Job 41.  Die beskrywing van hierdie dier in Job 41 lyk nie soos ‘n krokodil nie, maar eerder soos ‘n tipe dinosaurus.  Die onmiddellike beswaar van party lesers is dat dinosaurusse uitgesterf het voordat die mens op aarde was.  Maar hierdie teorie glo dat daar dood in die wêreld was voor sonde, en volgens die Bybel is dit andersom (Romeine 5:12, 8:20-21).

God se veelkleurige wysheid

Colourful sunrise

Die Mariana trog in die Atlantiese Oseaan is 11 km diep.  Berg Everest is 8.8 km hoog.  God se wysheid, egter, het geen bodem of piek nie.  Die sand en die sterre kan nog getel word, maar daar is geen einde aan God se kennis en wysheid nie – dit is méér as die sterre en die sand.  Die Skrif sê:  “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!  Hoe geweldig is hulle volle som nie!  Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand…Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.  Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.” (Psalm 139:17-18, 147:4-5).  Wat is God se wysheid?  Wayne Grudem skryf:  “God’s wisdom means that God always chooses the best goals and the best means to those goals.” (Systematic Theology, Inter-Varsity Press, LEICESTER, 1994, 2000, p.193).  Dit impliseer dat God nie ‘n beter keuse kón maak nie.  Indien Hy kon, beteken dit dat sy besluite nie die beste is nie.  Daar is te veel kleure in die prisma van God se wysheid vir ons klein verstand.  Dit is te diep om te peil:  “O Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!  Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!”  Efesiërs 3:10 praat van “die menigvuldige wysheid van God”.  Die Griekse teks praat letterlik van sy veelkleurige wysheid.  God kan doen ver bo wat ons kan bid of selfs dink (Efesiërs 3:20).

 

Veelkleurige wysheid in die skepping

Oor die afgelope 150 jaar was daar heftige aanvalle teen Genesis 1.  Evolusioniste sê dat toeval die oorsaak van die wonderskone natuur is.  Maar Genesis 1 sê dat ‘n wyse God agter alles staan.  Die manier waarop Hy geskep het sal dit vir ons wys.

 

  1. Spreuke 24:27 sê:  “Maak jou werk buitekant reg, en bring dit vir jou op die land in orde; daarna moet jy dan jou huis bou.”  As daar koring in die lande en beeste in die stal is, sal jy genoeg brood en melk hê om jou te voed (en krag te gee) terwyl jy jou huis bou.  En dit is hoe God geskep het.  Hy het eers die habitat geskep, en dit daarna gevul met die skepsels wat daarby pas.  Hy het die oop hemelruim gemaak, die oseane, en die droë land met plante wat daaruit groei.  Toe dít gereed is, het Hy sterre en planete in die ruimte geplaas, voëls in die lug, visse en ander skepsels in die see, en diere en mense op die droë land.  Hy het die mens laaste geskep, omdat Hy eers sy habitat perfek gereed wou maak.
  2. God het alles volgens sy soort gemaak:  vrugtebome, plante, seediere, voëls, mak diere, en wilde diere (Genesis 1:11-12, 21-22, 24-25).  Maar die mens is na Gód se beeld en gelykenis gemaak (Genesis 1:26-27).  Daar kon nie evolusie van een soort dier na ‘n ander gewees het nie.  DNA bewys dit.  Gestel ‘n hond met lang hare en een met kort hare het kleintjies.  Party kleintjies sal kort hare hê, ander lang hare, en nog ander medium lengte hare.  As die honde op ‘n baie koue plek bly, sal die honde met kort hare vrek.  Die honde met medium en lang hare sal oorleef.  As hulle vir ‘n lang tyd daar bly, sal die geen vir lang hare oorheersend wees.  Jy sal nie meer kort haar honde hê nie.  Die nodige inligting (gene) vir kort hare het verlore gegaan.  Inligting kan verlore gaan.  Maar jy kan nooit inligting in die DNA byvoeg nie.  Honde is honde en visse is visse (‘volgens hulle soorte’).  Visse word nooit honde nie.  Evolusie van een soort na ‘n ander is onmoontlik.  En omdat net die mens na God se beeld en gelykenis gemaak is, kan ‘n aap-soortige dier nooit in ‘n mens verander nie.  Evolusie is ‘n feëverhaal vir kinders.
  3. Die verskeidenheid van skepsels is ‘n toonbeeld van God se veelkleurige wysheid.  Daar is diere met strepe en kolle, lang nekke en slurpe, hoewe en sagte pote, skubbe en pelse.  Die kleure en ontwerp van God se skepsels is verstommend.  Daar is groot sterrestelsels en mikroskopiese elektrone.  Swaeltjies het ‘n beter navigasie sisteem as enige GPS in die winkel.  Die jagmetode van humpback (boggelrug?) walvisse en swart reiers is briljant.  Die krag van God se skepsels laat die sterkste man lyk soos ‘n donsveer in die wind.  “Hoe talryk is u werke, o HERE!  U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!  Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ‘n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.” (Psalm 104:24-25).

 

Moenie verby die skepping lewe nie.  Let op God se werke en prys Hom vir sy wysheid.  En moenie bang wees om Genesis 1 vir ander te leer nie.  Staan teen evolusie, want dit betwyfel God se veelkleurige wysheid.

 

As iemand wat na God se beeld gemaak is, moet jy sy wysheid weerspieël in:

  • Jou kreatiwiteit; die manier waarop jy kos voorberei, ‘n brug ontwerp, ‘n koffietafel maak.
  • Jou logiese denke en redenasie.  Gedagtes wat georden is sê dat ‘n wyse God jou gemaak het.
  • Jou besluite.  Neem wyse besluite – nie net goeie besluite nie, maar die beste.
  • Jou werk.  Een van my kinders se kamer was onnet.  Ek het die kind voor die blombedding laat staan:

 

Ek:  “Sien jy die dag lelies?

 

Kind:  Ja.

 

Ek:  Watse kleur is hulle?

 

Kind:  Geel.

 

Ek:  Hoeveel blare het die blom?

 

Kind:  Ses.

 

Ek:  Hoeveel dun blare met skerp punte is daar?

 

Kind:  Drie.

 

Ek:  En hoeveel breë blare met geriffelde kante?

 

Kind:  Drie.

 

Ek:  Watse kleur is die breë blare?

 

Kind:  Ligte geel aan die binnekant en donker geel aan die buite kant.

Ek:  En die dun blare?

 

Kind:  Donker geel aan die binnekant en ligte geel aan die buitekant.

Ek:  Is God se werk ordelik en netjies?

 

Kind:  Ja.

 

Ek:  Is jy na sy beeld gemaak?

 

Kind:  Ja.

 

Ek:  Hoe moet jou kamer dan lyk?

 

Kind:  Ordelik en netjies.

 

Sorg dat die ordelikheid en netheid van jou werk God se wysheid weerkaats.  En as jy wysheid nodig het, vra vir God (Jakobus 1:5).  Deursoek sy Woord en jy sal wys word (Psalm 19:8).

 

Veelkleurige wysheid in voorsienigheid

In 2008 het my suster radikaal tot bekering gekom deur John Bunyan se Pilgrim’s Progress.  Hoekom het Bunyan die boek geskryf?  Want hy was in die tronk en kon nie preek nie – toe skryf hy maar.  Hoekom was hy in die tronk?  Want hy het die evangelie verkondig.  Hoekom het hy dit gedoen?  Want hy was lief vir die Here en wou sy Woord met ander deel.  Hoekom?  Want hy was ‘n Christen.  Hoe het hy ‘n Christen geword?  Hy het Martin Luther se Galasiërs-kommentaar gelees.  Hoekom het Luther ‘n kommentaar oor Galasiërs geskryf?  Want daar is so ‘n boek in die Bybel, geskryf deur die apostel Paulus.  Hoekom het Paulus Galasiërs geskryf?  Want daar was Christene in die Galasië provinsie:  hulle het goeie lering nodig gehad om teen valsheid te staan.  Hoe het die Galasiërs Christene geword?  Paulus was siek en kon nie verder reis nie.  Terwyl hy gewag het om gesond te word, het hy die evangelie vir hierdie mense gepreek (sien Galasiërs 4:13).  Dus kan ons sê my suster het tot bekering gekom, want Paulus het siek geword.  God is wys.

 

God se wysheid vlug nie van moeilikheid nie, maar werk in en deur dit.  Die eindste Nyl waarin Farao die Hebreërs se baba seuntjies verdrink het, is die plek waar God vir Moses gered en bewaar het.  Die leser van Eksodus 2:1-10 wil die grensende baba Moses se mond toestop, sodat Farao se dogter hom nie vind nie.  Maar God hits hom aan om te huil, sodat die prinses hom moet jammer kry.  Moses se ma word betaal om haar eie kind groot te maak!  Die ouers het probeer om Moses sover as moontlik van Faroa af weg te hou.  Maar God het gesorg dat hy onder Farao se neus grootword.  En dít het Hy gedoen om sy volk uit Egiptiese slawerny te bevry; die volk uit wie die Messias moes kom.

 

God is wys en werk die slegste omstandighede tot jou voordeel:  “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” (Genesis 50:20).  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28).  Die klein dinge wat verkeerd loop in jou lewe, word dikwels deur die Here gebruik as keerpunte in die geskiedenis.  Dink maar aan Josef wat as ‘n slaaf verkoop is na Egipte.  Die Here het hom vooruit gestuur om die uitverkore volk aan die lewe te hou (lees maar gerus weer Genesis 37-50).  Calvyn het beplan om Strasbourg toe te gaan, maar daar was ‘n oorlog op die pad wat hy moes reis.  Hy neem toe ‘n ompad deur Geneva.  En daar het die Here hom gehou om te preek, kommentare en boeke te skryf, en ‘n hele kontinent te beïnvloed.  ‘n Paar jaar gelede het Time gesê dat Calvinisme een van die top tien invloede in 21ste eeu Amerika is.  Moenie kla oor die weer, jou omstandighede, jou salaris, of jou huweliksmaat nie.  As jy dit doen of iets anders begeer, dan sê jy God is onwys en kon beter gedoen het.  Moenie twyfel of kla wanneer dit lyk of dinge skeefloop nie.  Loof die Here en dank Hom vir sy veelkleurige wysheid.

 

Veelkleurige wysheid in verlossing

In die 1700’s het Engeland se wysheid gefaal.  Die regering was raadop oor die morele verval en misdaad.  Hulle het dinge probeer regstel deur die doodstraf vir 126 verskillende misdade op te lê.  Hulle het skole gestig om vir die mense maniere te leer.  Niks het gewerk nie.  En toe het die alwyse God Engeland omgekeer deur ‘n eenvoudige metode en boodskap.

 

  1. God gebruik nie wonderwerke, filosofie, of apologie om mense van die waarheid te oortuig nie.  Hy gebruik prediking (sien 1 Korintiërs 1:18-2:5).  Jesus sê:  “As [mense] na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Lukas 16:31).
  2. God red sondaars deur geloof in die evangelie van ‘n arm Man wat die doodstraf (‘n haatlike kruisdood) gekry het:  “maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke…want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (1 Korintiërs 1:23, 2:2).
  3. God kies en red arm en eenvoudige mense, sodat niemand in homself mag roem en sê nie:  “God het my gekies en gered omdat ek spesiaal en talentvol is.”  Jesus het gesê:  “In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê:  Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).  “Want let op julle roeping, broeders:  julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.  Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.  Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.” (1 Korintiërs 1:26-31).

 

Moenie skop en kla teen die uitverkiesingsleer en sê God is onregverdig of onwys nie.  Aanbid God eerder daarvoor.  Na ‘n lang lering oor God se uitverkiesing (Romeine 9-11), sluit Paulus af met hierdie lied:  “O Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!  Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.  Amen.” (Romeine 11:33-36).  Die uitverkiesingsleer bestaan nie sodat jy God moet bevraagteken nie.  Dit is in die Bybel, sodat jy in self-vernedering en aanbidding voor Hom sal neerbuig.  Vertrou Gód se wysheid en nie jou eie nie.

 

In reaksie op God se gekose metode (prediking), wil Hy hê dat predikante hulself daaraan sal wy.  Moenie dink jy sal mense oortuig deur apologie of debat nie.  In ons kerke mag musiek, jeugbediening, besoeke, en berading nie die sentrale plek inneem nie.  Evangeliese en Bybelse prediking moet sentraal wees.  Die Woord van God sê:  “maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.” (Handelinge 6:4).  “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.  Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge.  Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” (1 Timoteus 4:13-15).  “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timoteus 4:2).

 

Sielkunde kan nie mense se harte verander nie.  Politiese aksie, opvoeding, en seminare kan nie.  Net Jesus deur sy evangelie kan.  Hý is immers die wysheid van God (1 Korintiërs 1:24).  Alle skatte van kennis en wysheid is verborge in Hóm (Kolossense 2:3).  Hý is die veelkleurige Wysheid deur Wie God die wêreld geskep het; die Een wat wyser is as Salomo (Spreuke 8:22-31, Matteus 12:42).  Verkondig en roem in Hom as die gekruisigde (sien Galasiërs 6:14).

 

“Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse

God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid.  Amen.”

 

–1 Timoteus 1:17–