Hoe om reg te aanbid

Whitefield preaching

Wanneer dit by moraliteit kom is die wêreld se leuse: ‘As dit lekker voel, jou gelukkig maak, en niemand seermaak nie, kan jy dit maar doen.’  Ongelukkig het hierdie mentaliteit Christelike aanbidding beïnvloed.  Baie kerke voel ‘n veer vir wat God oor aanbidding sê.  Vir hulle is dit net belangrik dat mense lekker moet voel.

 

Vir ‘n ware Christen egter, maak dit saak om God reg te aanbid, om te aanbid soos wat Hy sê.  Ons bestaan om God te aanbid.  As jy dus die Bybel se lering oor aanbidding mis, mis jy nie net ‘n déél van die Christelike geloof nie – jy mis Christenskap.  Daarom is Eksodus 31 baie belangriker as wat ons dink.

 

Die Gees van aanbidding (v.1-6)

Vroeër vanjaar het my Volkswagen TDI skielik op ‘n dag niks krag gehad nie. Na ‘n lang gesukkel het die werktuigkundige die fout gekry.  Rotte het ‘n klein gaatjie in een van die pype geknaag, sodat dit lug gesuig het, en nie krag deurgegee het na die turbo nie.  Die kar kon ry, maar het niks krag gehad nie.  Op dieselfde manier kan ons God meganies aanbid en alles reg doen, maar geen krag hê nie.  Ons benodig die Heilige Gees as ons God reg wil aanbid.  Dit is die boodskap van v.1-6.

 

Toe God klaar instruksies vir die tabernakel gegee het, het Hy nie gewag vir ‘n vrywilliger om te help nie.  Hy het vir Besaleël, die seun van Uri, die seun van Hur, uit die stam van Juda gekies (v.1-2, 17:10, 12, 24:14).  In ‘n sekere sin was Besaleël ‘n tipologie van Jesus wat ook uit die stam van Juda was, en die tempel van die Here gebou het (Hebreërs 7:14, Matteus 16:18, Sagaria 6:12-13, Efesiërs 2:20).

 

Besaleël se naam beteken ‘in die skadu of beskerming van God’ (Psalm 91:1). Hy was die leier van die vakmanne wat die tabernakel moes bou.  God het hom geroep (v.2), afgesonder, toegerus om kunstig te werk (v.3, 1 Konings 7:14), met die Heilige Gees gevul (v.3, Rigters 6:34), gevul met kennis (v.3), vaardigheid, vakmanskap, en intelligensie om alles akkuraat te meet en te pas (v.3).  Hy het nie maar net ‘n natuurlike talent gehad nie, maar ‘n gawe vir ‘n geestelike en heilige taak.  Die Gees het aan hom die vermoeë gegee vir kunstige ontwerp, om te werk met goud, silwer, en koper (v.4), om stene te sny en te pas (v.5), en om fyn houtsneewerk te doen (v.5).  Hy was nie sommer maar net ‘n ‘Jack-of-all-trades-and-master-of-none’ nie, maar kon alles goed doen (v.5).  Hy was ‘n skrynwerker, juwelier, goudsmid, silwersmid, en kopersmid alles in een.

 

God het vir Oholiab, die seun van Ahisamag uit die stam van Dan gekies om vir Besaleël te help (v.6). ‘Toevallig’ beteken sy naam ‘my tent is die vader’ of ‘tent van die vader’.  Elke vaardige man het sy vaardigheid by God gekry (v.6).

 

Hierdie verse is ‘n illustrasie van wat dit beteken om God te aanbid in gees (Johannes 4:24). Om God in gees te aanbid beteken nie jy moet in tale bid of sing, emosioneel opgesweep raak deur ‘n koortjie wat jy oor en oor sing, of in vervoering raak sodat jy jou brein afskakel en nie jouself beheer nie.

 

Ons moet egter nie bang wees vir emosie nie. Om God in gees te aanbid moet jy die Woord baie lees en diep oordink (Kolossense 3:16, Efesiërs 5:18), jou sonde wat die Heilige Gees bedroef bely (Efesiërs 4:30), en bid dat God jou met sy Gees sal vul (Lukas 11:13).  Aanbid Hom dan met groot blydskap, volle vrede, oorvloedige hoop, diep liefde, sugtende verlange, ryk lofprysing, en brandende ywer.

 

Pasop tog om nie aanbidding tot sang te beperk nie. Onthou: Skriflesing, prediking, gelowige gemeenskap, gebed, offergawes, die nagmaal, geestelike gawes soos hulpverlening, administrasie, bemoediging, leiding, lering is alles deel van aanbidding.  Ons moet God ook op hierdie maniere aanbid in gees.  Dit is die Heilige Gees wat jóú gees bekragtig om tot eer van God en stigting van ander geld op te neem en te tel, die nagmaaltafel te dek, ‘n bulletin maak, preke op te neem, musiek te lei, mense te groet, ens. (1 Korintiërs 12:11).  Moet dan nie dink gebed en prediking is geestelik, maar om by die werksdag te help of ou mense vir kerk op te laai is nie (v.2-3, 6, Handelinge 6:3, 5).

 

Hoekom is belangrik dat ons God in gees moet aanbid?  As ons dit nié doen nie, is ons soos die Fariseërs wat volgens die Skrifte aanbid het, maar hulle harte was ver van God af (Matteus 15:8).  God haat meganiese en koue aanbidding.

 

Die gebod van aanbidding (v.6-11, 18)

André bou vir hom ‘n huis op ‘n gholf landgoed. Die tekenaar en argitek is baie gaaf en vriendelik met André, en gaan uit hulle pad om kwaliteit werk te lewer teen ‘n redelike prys. Maar daar is ‘n probleem:  hulle ontwerp, teken, en bou soos wat húlle goeddink, en nie soos wat hý vra nie.  Sal André hulle voorbarigheid verskoon, omdat hulle gaaf en vriendelik was, of omdat hulle netjies teken?  So ook is God nie tevrede as ons opreg en ywerig aanbid, maar doen soos wat óns wil, en nie soos wat Hý sê nie.  God het in v.6-11, 18 gesê dat die volk moes werk, aanbid, en doen volgens sý gebod en opdrag.

 

In v.1-6 het God mense vir hierdie taak toegerus, en in v.7-11 het Hy gesê wat die taak is. God het die vakmanne vaardig gemaak, sodat hulle alles kon maak volgens die plan wat Hy vir Moses gegee het (v.6). Wat moes hulle maak?  Die tent (v.7), die Ark van Getuienis met die goue versoendeksel en gerubs bo-op (v.7), die tent se meubels (v.7):  die wierook altaar (v.8), die kandelaar (v.8), die tafel met toonbrode (v.8), die koper altaar (v.9), al die bypassende instrumente, die koper waskom met sy staander (v.9), die kunstig-geweefde en heilige klere vir Aäron en sy seuns in hulle diens as priesters (v.10), die salfolie, die geurige wierook vir die heilige plek (v.11).  Hulle moes alles presies maak volgens God se instruksies aan Moses (v.11).

 

In v.18 het Moses die Tien Gebooie op twee kliptafels gekry. God het dit in klip gegraveer om te wys dat dit vir alle geslagte geld.  In die Nuwe Testament het Hy hierdie wet op ons harte geskryf ( 2 Korintiërs 3:3, Hebreërs 8:10).  God het dit ook met sy vinger geskryf, om te wys dat dit Goddelik en hemels is (vgl. 8:19, Lukas 11:20, Psalm 8:4).

 

Wat is die lesse wat ons uit hierdie verse moet leer? Ons moet God in waarheid aanbid (Johannes 4:24).  Wat beteken dit?  Tydens die hervorming het Martin Luther gevoel dat die kerk die Katolieke aanbidding wat nie met die Skrif bots nie, so moes los.  Ulrich Zwingli het egter gesê dat die kerk net moes aanbid volgens die direkte opdragte van die Nuwe Testament.[1]  My swaer moes onlangs badkamerkaste vir iemand bou.  Sou dit saakgemaak het as hy dit volgens die planne gebou het, maar ook enigiets bygevoeg het wat nie in die planne verbied was nie?  Ja dit sou, want dan sou die kaste nie in die spasie of by die res van die badkamer se styl gepas het nie.

 

Op dieselfde wyse moet ons God slegs aanbid volgens wat Hy in die Nuwe Testament voorgeskryf het, en nie volgens die Nuwe Testament plus alles wat nie daarin verbied word nie.  Hoe lyk Nuwe Testamentiese aanbidding?  Ons moet die Skrif lees, preek, bid, sing, en dit in die sakramente sien.  Die detail daarvan sal verskil van een kerk na die volgende.  Gemeentes moet self besluit of hulle een of meer Skriflesing moet hê, ‘n reeks uit ‘n Ou- of Nuwe Testament boek wil preek, watse musiek instrumente hulle gaan gebruik, hoeveel liede hulle wil sing, hoe gereeld hulle die nagmaal gaan vier, of daar ‘n getuienis voor die doop gaan wees of nie, of gebede spontaan of neergeskryf moet wees, ens.

 

Die Nuwe Testament is die vervulling van die wet. Daarom moet ons die Nuwe Testament in ons aanbidding volg, en nie vashou aan die skadus en tipes van die wet nie.  As jy dit nié so doen nie, sal jy weer priesters en die Ou Testament feeste hê, olie op mense se voete smeer, wierook en kerse brand, ramshorings blaas, met vlae dans, beelde in die kerk oprig (soos die gerubs bo-op die ark), die doop in die plek van die besnydenis inbring en babas doop, ens.

 

As ons God nie volgens sý voorskrifte aanbid nie, loop ons die gevaar om ‘n god van ons eie verbeelding te skep, en uiteindelik ‘n vals god te aanbid (20:4-5, 32:4-5).

 

Die dag van aanbidding (v.12-17)

Ek onthou as kind hoe middagslapies vir ons ‘n straf was. Ons het dit gehaat.  Noudat ek ouer is, wens ek middagslapies was verpligtend.  Die Israeliete moes nie die Sabbat as ‘n straf sien nie, maar as ‘n seën om hulleself te verfris en te verkwik (Markus 2:27).  As God dit nie ingestel het nie, sou mense makliker ‘n afgod maak van werk, ons huwelike en gesinne afskeep, nie tyd neem om saam met ander te aanbid nie, gouer siek word a.g.v. ‘n liggaam wat moeg, gestres, en uitgeput is.  Daarom het God hierdie streng wet gegee in v.12-17.

 

Na God se opdrag oor die plek van aanbidding, het Hy ook ‘n opdrag gegee oor die dag van aanbidding.  In die konteks het Hy in effek gesê:  ‘Rus selfs van heilige werk.  Werk vir ses dae aan die tabernakel, maar rus op die sewende dag.’  In die teks praat die Here van my Sabbatte.  Daardeur het God gewys dat Hy die dag ingestel het, en dat dit ‘n spesiale dag was vir diens aan Hom (v.13).  Die heilige dag was ‘n teken dat Israel ‘n heilige volk was vir die Here (v.13, 16).  Die dag was spesiaal, sodat God op hierdie dag sy volk deur die genademiddele (die Woord, offers, gebed, lofsange, ens.) kon heilig maak (v.13).

 

Die volk moes die dag heilig hou en dit nie beskou het soos enige ander dag, sodat hulle daarop gewerk het nie (v.14). Enigiemand wat ongehoorsaam was moes doodgemaak word (v.14-15, Numeri 15:32-36).  Die straf was erg, sodat die volk kon sien God is ernstig en heilig.

 

Die volk kon vir ses dae werk en maklik hulle week se werk klaarkry (v.15). Die rus op die sewende dag moes heilig en volkome wees.  God wou hê hulle moes hulle liggame rus, en hulle siele deur aanbidding verkwik (v.15).  Die Sabbat was ‘n ewige teken dat God die hemel en die aarde in ses dae geskep het, en op die sewende dag gerus het (v.17, Genesis 2:2-3).  So sou die volk onthou dat Hy, en nie ander gode nie, die Skepper is (v.17).  Net soos God, moes hulle vir ses dae werk en op die sewende dag rus en verfris raak (v.17).

 

Die les vir ons is duidelik: neem ‘n rusdag om God te aanbid.  Om dit reg te hou, moet jy hierdie dag in die lig van die Nuwe Testament beskou.  In die Ou Testament het God die sewende dag geheilig en daarop gerus, nadat Hy die skepping voltooi het.  In die Nuwe Testament het Hy die eerste dag geheilig en van sy verlossingswerk gerus, nadat Jesus die nuwe skepping in sy opstanding begin het.  ‘n Rusdag op die eerste dag is ‘n prentjie van ons rus in Jesus (Hebreërs 4:3, 8-10, Openbaring 14:13, Matteus 11:28-29).  Die Ou Testament Sabbat was ‘n skadubeeld van hierdie rus (Kolossense 2:16-17).

 

Die Sewendedag Adventistekerk sê Konstantyn was ‘n sonsaanbidder, en het daarom in 321 n.C. die Sabbat na die Sondag toe verander.[2]  Maar Konstantyn het reeds in 312 n.C. sonaanbidding gelos om Jesus te aanbid.[3]  Nadat hy vir Maxentius by die Mulviese Brug oorwin het, het hy nie volgens tradisie die Romeinse gode vereer nie, maar vir Jesus alleen.[4]  Konstantyn het die Sondag vereer omdat hy Jesus se opstanding wou erken, en nie omdat hy een of ander songod wou aanbid nie.[5]

 

In die middel van die 2de eeu het Justin Martyr gesê dat Christene op Sondae aanbid. Hy het geskryf:  ‘Ons hou ons gewone saamkomste op Sondae, want dit is die eerste dag toe God duisternis en choas verdryf het om die wêreld te maak.  Ons doen dit ook so, omdat ons Verlosser, Jesus Christus op hierdie dag opgestaan het uit die dood.’[6] (vry vertaal).

 

Baie gou na Jesus se opstanding het Christene begin om op Sondae te aanbid. Handelinge 2:1 wys dat die kerk op ‘n Sondag gebore is (vgl. Johannes 20:1, Levitikus 23:16).  Daarna het die gelowiges op Sondae ontmoet (Handelinge 20:7, 1 Korintiërs 16:1-2, Openbaring 1:10).  Dit het gebeur soos wat dit in die Ou Testament voorspel is:  die dag wat die Here gemaak het en waarin ons bly is, is die dag van Jesus se opstanding waarop Hy die hoeksteen geword het (Psalm 118:24, 22-23, Handelinge 4:10-11).

 

Dit is jammer dat party kerke op Saterdae aande dienste hou, sodat mense op die Here se Dag hulle eie ding kan doen. Kom op Sondae saam om die opgestane Jesus te aanbid en geestelik verkwik te raak.

 

Baie mense glo dat die koms van die charismatiese beweging Christelike aanbidding verryk het. Ek verskil.  Na my mening het hulle ‘n Babelse verwarring veroorsaak, en ‘n goue kalf in die kerk ingebring.  Hulle het gemaak dat mense aanbidding verwar met ‘n emosionele gevoel, en dat hulle dit beperk tot ‘n vreemde gebrabbel en koortjies wat oor en oor gesing word.  ‘n Vrou het eenkeer vir my gesê:  ‘As die musiek goed was en ek vir ‘n halfuur of 40 minute lekker kon worship, gee ek nie om of die preek goed is of nie.’

 

Dit sal goed wees as ons kan leer by ‘n prediker wat eenkeer by ‘n vreemde kerk gepreek het. Toe die sang verby is, het die musiekspan in die agterste banke gaan sit om te slaap.  Die prediker het hulle wakker gemaak en gesê hulle moet respek hê vir God se Woord.  ‘Die musiek is nie die enigste deel van aanbidding nie; die preek is ook aanbidding,’ het hy gesê.  Ek hoop dat jy uit Eksodus 31 ten minste iets van ware Bybelse aanbidding geleer het.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, p.149

[2] Sewendedag Advenstiste Glo…, p.276

[3] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.1, p.152

[4] Williston Walker, A History of the Christian Church (4th Edition), p.125

[5] Needham, vol.1, pp.164-165

[6] Ibid, pp.66-67

Advertisements

God se wette tot jou voordeel

Feast

Matilda is ‘n tipiese tiener. Sy haat die reëls in haar huis en skool. Sy is soos ‘n seun wat op die skooltoer vir die onderwyser gesê het: ‘Rules are there to be broken!’ Ouers en onderwysers is wyser as dit, en weet dat reëls vir almal se beswil en voordeel bestaan.

 

Natuurlik kan daar menslike reëls wees wat onnodig en nadelig is. Maar dit is nooit so met Gód se reëls nie: dit is altyd tot óns voordeel en sý eer. As jy dít verstaan en navolg, sal jy die grootste vryheid, vreugde, en sekuriteit ervaar.

 

In Deuteronomium 5:33 sê die Here: “In al die weë wat die HERE julle God julle beveel het moet julle wandel, sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem.” Psalm 119:45 sê: “I will live in perfect freedom, because I try to obey your teachings.” (TEV).

 

En dis ook die punt wat God in Eksodus 23:10-19 maak.

 

Rus (v.10-12)

Arrie is ‘n beesboer. Hy deel sy plaas op in kampe. As die beeste een kamp kaal gevreet het, skuif hy hulle na ‘n ander kamp, sodat die eerste kamp se gras weer kan groei. Dis die beginsel in v.10-11.

 

Die volk moes vir ses jaar ploeg, saai, en oes, en in die sewende jaar die grond laat rus (v.10-11, Levitikus 25:3-5). Só kon die grond wat uitgeput is, weer die minerale en voedingstowwe daarin herwin (onthou dat hulle nie kunsmis en ander chemikalieë gehad het nie). Op dié manier kon jou ploeg-os en pakdonkie ook rus (v.11).

 

Die armes kon van die lande, boorde, en wingerde af eet, en wat húlle gelos het kon die wilde diere eet (v.11, Levitikus 25:5-6). So het God vir die diere van die veld gesorg (Psalm 104:27-28, Matteus 6:26). Ons weet nie of die Sabbatsjaar op dieselfde tyd oor die hele land geval het nie. Indien nie, sou die armes en wilde diere jaar na jaar kon eet. Jare later het God die volk gestraf omdat hulle die Sabbatsjaar geminag het (2 Kronieke 36:21).

 

‘n Vrou wat in ons kerk was het twee jaar gelede langverlof gekry. Buiten vir haar gewone verlof, het sy 54 dae af gekry. Miskien wens jy vir so baie verlof. Besef jy dat God vir jou 52 dae per jaar af gee?

 

Die Sabbatswet vir weke werk byna soos die Sabbatswet vir jare: werk ses dae en rus een. God het die wêreld met hierdie siklus geskep (v.12, 20:8-11, Genesis 1-2). Ons moet die Sabbat nie as ‘n straf sien nie, maar as ‘n geskenk van rus en verfrissing, sodat ons ons kragte kan herwin om effektief te werk in die res van die week. Nie net ons liggame nie, maar ook ons gees word verkwik.

 

God sorg selfs vir die diere. Weereens kan jou ploeg-os en pakdonkie rus. Hulle kan vrylik wei en hulle kragte herwin (v.12). God sorg ook vir vreemdelinge en slawe: hulle hoef nie hout te kap, water te dra, in die lande of die huis te werk nie.

 

Selfs in die Nuwe Testament moet ons die Sabbat-beginsel volg. God is nie ‘n harde Meester nie, maar gee vir ons rus. Ons moet soos Hy wees (v.12). Laat die mense wat in jou winkel, fabriek, garage, tuin, en huis werk op Sondae rus. Gee vir jou kinders rus van huiswerk en voorbereiding vir eksamens. Laat hulle ‘n breek neem, sodat hulle breins kan rus. Ek wil nie wette maak van wat jy mag doen en wat nie. Net-nou raak ek belaglik soos die moderne Jode wat nie ‘n lig mag aansit, of ‘n hysbak se knoppie mag druk op die Sabbat nie. Ek glo tog ons moet rus en ook die mense wat vir ons werk in ag neem.

 

As ons die Sabbatsrus eer sal daar baie minder stresverwante siektes wees. Ons moet onsself egter nie daarteen blindstaar dat die Sabbat net ‘n skadubeeld is nie. Daarom moet ons rus vir ons siele soek en vind in Jesus (Kolossense 2:16-17, Matteus 11:28-29, Hebreërs 4:3, 8-10, Openbaring 14:13).

 

Afgode (v.13)

Het jy al opgelet hoe lyk lande waar Islam heers (Irak, Afghanistan, ens.)? Hoe lyk lande waar ateïsme en kommunisme oorneem (die ou VSSR)? En wat van lande waar humanisme heers (kyk maar na die morele verval in die weste)? En lande waar Afrika-godsdienste en Hinduïsme heers? Of lande waar die Rooms-Katolieke heers (kyk na die armoede in Meksiko)? Hoe lyk ‘n land waar Bybelse Christenskap ‘n baie sterk invloed gehad het? Dié land het ‘n sterk ekonomie, rykdom, en hoë morele waardes. Om afgode te aanbid is sleg vir die samelewing. Om die ware God te aanbid is goed vir enige samelewing. Dink maar aan Suid-Afrika en Amerika in vroeër jare.

 

Die volk moes let op elke woord wat God gegee het (v.13). God het deur Josua gesê: “Neem net noukeurig in ag die onderhouding van die gebod en die wet wat Moses, die kneg van die HERE, julle beveel het, om die HERE julle God lief te hê en in al sy weë te wandel en sy gebooie te onderhou en Hom aan te hang en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel.” (Josua 22:5).

 

Die heel eerste van hierdie wette sê dat Jahwe die enigste God is (v.13, 20:3). Daarom moet jy nie ander gode se name op jou lippe neem, praat asof hul ware gode is of gelyk is met Jahwe nie, by hulle sweer, voor hulle buig en hulle aanbid, navraag doen om soveel as moontlik oor hulle te leer, vir jou kinders hiervan leer, of met ‘n heiden trou en tydens die seremonie die afgod se naam bely nie (v.13).

 

“Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.” (Hosea 2:16). “dat julle met hierdie nasies wat met julle saam oorgebly het, nie meng nie; julle mag ook die naam van hulle gode nie vermeld en daarby nie laat sweer nie, en julle mag hulle nie dien en julle voor hulle nie neerbuig nie” (Josua 23:7).

 

Moenie God en afgode op dieselfde vlak plaas nie. In die Ou Testament het ouers hulle kinders vir Moleg geoffer. Vandag nog doen Christen-ouers dit ‘spreekwoordelik’. Hulle gee nie om dat hulle kinders in die skool leer dat Christenskap en ander godsdienste gelyk is nie. Hulle gee nie om dat evolusie vir ‘n feit geleer word en die skepping as ‘n storie nie. God sal van jou rekenskap eis. Dis ‘n ander saak as die skool Christen-gebasseer is en hierdie dinge as foute uitwys, maar die Bybelse waarheid vir jou kinders leer.

 

Moenie die leuen glo wat sê alle paaie lei na God toe nie: ‘Ons kan almal maar saam bid.’ Nee. Jesus is die enigste Weg (Handelinge 4:12, Johannes 14:6). Rooi, swart, en blou kan nie almal rooi wees nie. Bybelse Christenskap verskil uiteenlopend van Islam, Hinduïsme, Katolisisme, ateïsme, ander godsdienste. R.C. Sproul sê: ‘I’m sure it rankles God Almighty to hear any human being even mention Buddha in same breath with Jesus Christ.’ Mense wat ander gode dien en by hulle sweer sal baie smarte hê (Psalm 16:4).

 

Feeste (v.14-19)

Die Engelse spreekwoord sê: ‘All work and no play makes Jack a dull boy.’ Om hierdie rede het die Here beveel dat die volk gereeld feeste moes hou, sodat hulle ‘n wegbreek kon geniet, vakansie kon hou, vrolik kon wees, en hulle siele kon verfris. Ek weet hoe verrykend dit is om ‘n predikantekonferensie of goeie kerkkamp by te woon. Maar let tog op dat dit net ‘n paar feeste per jaar was. Dit leer vir ons die teenkant: ‘All play and no work makes Jack a fat, lazy, and unhealthy boy.’

 

Die volk moes drie keer per jaar fees hou. Daar is nóg feeste wat in Levitikus 23 genoem word, maar hierdie was die drie grotes. As hoofde van hulle huishoudings, moes al die mans daar wees (v.14, 17). Dié feeste was byna soos ‘n lanknaweek of verlof. Die feeste moes aan die Here gehou word (v.14). Die fees het dan nie net hulle liggame nie, maar ook hulle siele verkwik en verfris (Deuteronomium 16:6, 8, Levitikus 23). Volgens Deuteronomium 16:5-6, 16 sou die feeste in Jerusalem gehou word.

 

Ons moet ‘n balans vind tussen werk en rus. Waar is jy op die skaal? Werk jy angstig? Aanbid jy werk? Die werk sal nie weghardloop nie. God is nie kwaad vir jou omdat jy nie 24/7 werk nie. Jy sal nie op jou sterfbed spyt wees dat jy tyd met jou familie en Jesus gehad het nie. “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet—net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!” (Psalm 127:2).

 

Is jy dalk iemand wat daarvan hou om elke dag laat te slaap? Is jy lui? Mors jy ure op Facebook? Vir jóú sê die Bybel:

 

“Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd. Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap? Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande-vou om uit te rus! So kom dan jou armoede soos ‘n rondloper en jou gebrek soos ‘n gewapende man.” (Spreuke 6:6-11).

 

“Ek het by die land van ‘n lui man verbygeloop en langs die wingerd van ‘n verstandelose mens, en kyk, dit was heeltemal toegegroei van die dorings, sy oppervlakte was oordek met brandnekels en sy klipmuur omgegooi. En ek het dit aanskou, ja, daarop gelet, gekyk, en lering aangeneem: Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande-vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ‘n gewapende man.” (Spreuke 24:30-34).

 

Hoe lyk jou gebeslewe, jou Bybelstudie, jou huwelik, jou gesin, jou voorkoms, jou huis, jou tuin, jou wasgoed, jou skottelgoed, jou kar, jou pligte by die werk? Is dit met onkruid oortrek omdat jy lui is?

 

Toe ek 11 was het Louis Trichardt ‘n Rooivleisfees gehad. Ek onthou stalletjies, koeldranke, jaffels, pannekoeke, worsbroodjies, groot beeste, Mej. Suid-Afrika (Suzette van der Merwe), spookasem, tombola, skoolmaats, mense soos miere, sakgeld, ‘n springkasteel, skoene en klere te koop, en nóg meer.

 

Dit gee vir jou ‘n idee van die feestelike atmosfeer in Jerusalem. Drie keer per jaar was daar duisende mense, die aroma van varsgebakte brood, die reuk van bees-, skaap-, en bokvleis, gebraaide koring, lofsange, blydskap, en danksegging vir God se verlossing, rus, mededeelsaamheid, trosse druiwe, olywe, granate, tente wat van groen takke gemaak is, Skriflesings, gebede.

 

[1] Die Paasfees of Fees van Ongesuurde Brode is gehou op 14 Abib; die volk mag vir sewe dae geen suurdeeg by hulle gehad het nie (v.15, hfst.12-13, Deuteronomium 16:1-8). Die eerste en sewende dae van die Fees is as ‘n Sabbat gehou (v.12, Deuteronomium 16:8, Levitikus 23:7-8).

 

Die ongesuurde brood moes hulle daaraan herinner dat hulle haastig uit Egipte weg is: daar was nie tyd vir die deeg om te gis of te ruis nie (12:34, 39, Deuteronomium 16:3). By die Fees moes hulle ‘n offer bring om die Here te dank vir hulle redding, en daarom moes niemand met nie leë hande kom nie (v.15, Deuteronomium 16:6-8, Levitikus 23:8).

 

[2] Die Fees van die Oes is sewe weke of 50 dae na die Paasfees gehou (Levitikus 23:15-16). Daarom is dit ook die Fees van Weke of Pinksterfees genoem (34:22, Handelinge 2:1). Die volk moes die eerstelinge van die koringoes aan die Here offer (v.16, Deuteronomium 16:9-10). God sou die res van hulle oes seën, sodat hulle skure vol was (Spreuke 3:9-10). Hulle moes dié dag as ‘n Sabbat hou en vrywillig vir die Here offer volgens die seën wat hulle ontvang het. Hulle moes Hom prys, vrolik eet, en met mekaar deel (Levitikus 23:17-21, Deuteronomium 16:10-11).

 

[3] Die Fees van Insameling is teen die jaar-einde voor die winter gehou op die vyftiende dag van die sewende maand. God het hulle geseën, sodat hulle die oes van hulle wingerde en dorsvloer kon bring om met die armes, weduwees, weeskinders, vreemdelinge, Leviete, slawe, seuns, en dogters te deel (v.16, Deuteronomium 16:13-15, Levitikus 23:39). Die Fees het sewe dae geduur. Die eerste en die agtste dag is as ‘n Sabbat gehou (Levitikus 23:35-36, 39).

 

Hierdie Fees is ook die Huttefees genoem. Hulle het tente gebou van palm-, wilger-, olyf-, wilde olyf-, en mirtebome se takke. So sou hulle onthou dat hulle in tente gebly het toe God hulle deur die woestyn gelei het (Levitikus 23:34, 40-43, Deuteronomium 16:16, Nehemia 9:15). Hulle sou ook onthou dat die woestyn nie hulle permanente huis was nie; God het hulle na die Beloofde Land toe gelei.

 

Die volk mag nie suurdeeg met hulle offers gemeng het nie (v.18, 15, Deuteronomium 16:2-4). Hulle moes ook die vet aan die Here geoffer het (v.18, Eksodus 12:10). Hulle moes die beste – nie die slegste nie – van hulle eerstevrug na die tent van die Here toe gebring het (v.19, 16, Levitikus 23:16, 10-11). Dié offers sou kos wees vir die Priesters en Leviete (Numeri 18:12-13).

 

Dalk wou iemand sagte vleis hê by die Fees en ‘n jong bokkie in melk kook. Indien wel, mag hy dit nie in sy ma se melk gekook het nie (v.19). Volgens opgrawings by Ras Shamra (antieke Ugarit) het bygelowige heidene dit gedoen om ‘n vrugbare oes te verseker.[1] God wou nie hê dat sy volk soos die heidene moes wees nie.

 

Ons moet ons voor God verbly saam met ander Christene. Jy doen dit nie deur terug te keer na die skadubeeld en weer die Ou Testament Feeste te hou nie. Die Hebrew Roots Movement doen dit, en baie charismate is lief daarvoor. Dank God eerder vir die volheid wat ons in Christus het. “Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.” (Galasiërs 4:10). “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kolossense 2:16-17). As ons die volheid het, hou ons nie vas aan die skadubeeld nie.

 

Die Paasfees en Fees van Ongesuurde Brode is vervul in die kruis. Ons Paaslam is geslag en het deur sy kruisdood die suurdeeg van sonde weggevat (1 Korintiërs 5:7). Ons vier sy kruisdood in die nagmaal en nie in die Ou Testament feeste nie. Om dit reg te vier moet jy jou eie sonde bely, en deur kerktug die sonde verwyder wat soos suurdeeg versprei (1 Korintiërs 5:6, 8). Ons moet ook ontslae raak van die suurdeeg van skynheiligheid en vals lering (Matteus 16:11-12, Lukas 12:1, Galasiërs 5:9).

 

Die Fees van die Oes is vervul op Pinksterdag, sewe weke nadat Jesus opgestaan het. Jesus het sy Gees soos reën uitgestort, en op één dag ‘n oes van 3000 siele ingebring (Handellinge 2). Hy is steeds besig om ‘n groot oes uit die hele wêreld vir Hom in te samel.

 

Ons kan ploeg en saai, maar kan nie reën of groei gee nie. Net so kan ons werk en preek, maar ons kan nie een sondaar red nie. Bid dat Jesus weer sy Gees sal gee soos reën, dat daar sendingwerk, herlewing, bekerings, en ‘n groot oes sal wees. In 1630 het John Livingstone in Kirk O’ Shotts gepreek. Hy was benoud en het deur die nag gebid. Omtrent 500 mense is deur daardie preek verander en by die gemeentes gevoeg.[2]

 

Die Huttefees sal in die hemel en by Jesus se wederkoms vervul word (Sagaria 14:4-5, 9, 16). Toe Jesus op die berg verheerlik is, het Petrus gedink die Fees is vervul, en wou hy daar bly. “Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía.” (Matteus 17:4). Openbaring 7:9, 15 sê dat die Fees in die hemel vervul sal word. Ons sal palmtakke in ons hande hê as ons die Here prys; God se teenwoordigheid sal ons soos ‘n tent oorskadu.

 

In hemel sal Jesus die massas insamel soos ‘n oes. Dáár is die tyd van ‘n tydelike tentwoning verby, en sal ons in ‘n ewige paleis bly wat die rykste Hollywood sterre se huise soos pophuise laat lyk (Johannes 14:2, Hebreërs 11:9-10). Dáár sal ons ‘n vreugde hê wat die pyn en lyding van hierdie lewe oorskadu.

 

“Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” (Jesaja 65:17).   “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” (Openbaring 21:4).

 

Dáár lewe ons nie in ‘n tent wat kan skeur nie, ‘n liggaam wat kan sterf nie. Dáár het ons ‘n ewige huis, ‘n nuwe liggaam wat nie kan siek word, moeg word, swak raak, oud word, hartseer wees, pyn beleef, en sterf nie. “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.” (2 Korintiërs 5:1). Jesus is die eerstevrug uit die graf en waarborg dat die res van die ‘oes’ ook sal inkom (v.19, 1 Korintiërs 15:20, 23). Soos Hý, sal ons ook uit die dood uit opstaan.

 

Hoekom moet ons die Here só saam met ander prys? Robert Murray M’Cheyne gee die antwoord: ‘Heaven will be all praise. If you cannot praise God you will never be there.’[3]

 

Nick is 5 jaar oud. Hy kuier vir ‘n maand op sy oom se privaat reservaat. Hy is vies: hy dink dat sy oom ‘n skadunet oor druiwe gesit het om hom uit te hou, ‘n elektriese heining om die kamp gesit het om hom in te perk. Hy verstaan nie dat die skadunet die voëls uithou, sodat hy lekker druiwe kan kry nie; dat die heining die leeus uithou sodat hy veilig sal wees nie. Net so kyk ‘n mens anders na God se wet as jy weet dit is eintlik nie tot jou nadeel nie, maar tot jou voordeel.

[1] The MacArthur Study Bible, p.128

[2] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, pp.316-317

[3] Sermons of M’Cheyne, p.21

Die verlore seën van rus (‘n boodskap vir kerkloses en werkslawe)

Kids reading Bible

1 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. 2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. 3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.” (Genesis 2).

‘n DAG van rus

Die Sewende Dag Adventiste hou kerk op Saterdae.  Maar deesdae is dit nie net hulle nie.  Daar is ook sogenaamde ‘Christene’ wat wil terugkeer na die Ou Testamentiese wet.  Soos die Galasiër-vals leraars sê hulle dat mense wat die wet streng onderhou meer aanvaarbaar is vir God.  In effek glo hulle dat ‘n mens gered word deur Christus plus wetsonderhouding.  Aan die anderkant is daar mense wat sê dat die Sabbatswet seremonieel is en nie meer vir vandag geld nie.  Hoe moet ons hierdie twee uiterstes antwoord?

 

Soos die bogenoemde teks wys is die Sabbat ‘n skeppingsinstelling.  In Genesis 1 noem Moses elke skeppingsdag een keer.  Die term ‘sewende dag’ kom drie keer voor in v.2-3, om te wys dat dit ‘n spesiale dag is.  God het op hierdie dag gerus, die dag geseën en dit geheilig (v.2-3).  God het ook met sy eie vinger in die Tien Gebooie geskryf dat ons die Sabbatdag heilig moet hou (Eksodus 20:8-11, 31:18).  Hoekom rus Christene dan op Sondae as die Sabbat die sewende dag is.  Deur die mens se sonde het God se perfekte skepping verval.  God het ‘n nuwe en beter skepping tot stand gebring toe Jesus op die eerste dag van die week opgestaan het.  Die Skrif sê:

 

“Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword.  Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë.  Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.” (Psalm 118:24).  Wanneer is die dag wat die Here gemaak het, die dag waarin ons moet bly wees?  Dit is die dag toe die steen wat deur die bouers verwerp is, die hoeksteen geword het.  Wanneer is dit?  In die kruisiging het die ‘bouers’ Jesus verwerp; in sy opstanding het Hy die hoeksteen geword:  “laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het…Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het.” (Handelinge 4:10-11).  Jesus het op die eerste dag van die week opgestaan – op die Sondag (Matteus 28:1).  Daarom is Sondag die dag wat die Here gemaak het, die dag waarin ons moet bly wees.  Deur sy opstanding is ons weergebore en word ons ’n nuwe skepping:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword…Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (2 Korintiërs 5:17, 1 Petrus 1:3).  Toe God die wêreld klaar geskep het, het Hy op die sewende dag gerus.  Toe Hy die nuwe skepping bewerk het, het Hy op die eerste dag die ewige rus van verlossing ingegaan.

 

In Openbaring 1:10 praat Johannes van Sondag as die dag van die Here.  Hierdie Griekste konstruksie word slegs op een ander plek in die Nuwe Testament gebruik:  “die nagmaal van die Here” (1 Korintiërs 11:20).  Dáár dui dit op gewone brood en wyn wat deur die Here afgesonder is toe Hy die nagmaal ingestel het.  Net so is Sondag dan ’n spesiale dag wat die Here vir Homself afgesonder het; ’n dag waarin ons die Here se opstanding gedenk (cf. Psalm 118:24 hierbo).  Op die dag van sy opstanding het Jesus met sy dissipels ontmoet (Johannes 20:19).  Thomas was nie daar nie, maar moes wag tot die volgende Sondagaand, toe Jesus weer met hulle ontmoet het (Johannes 20:26)[1].  Die Nuwe Testamentiese kerk is nie toevallig op ‘n Sondag gebore nie.  Jesus se opstanding op die eerste dag het die Fees van die eerstevrug vervul (Levitikus 23:9-14, 1 Korintiërs 15:20, 23).  Sewe weke later is die Fees van Weke (Pinkster) met die uitstorting van die Heilige Gees vervul.  Omdat Jesus op die Sondag opgestaan het, sou Pinkster ook op ‘n Sondag geval het.  Hierdie spesiale aanbidding op Sondae kan ook gesien word in Handelinge 20:7 en 1 Korintiërs 16:1-2:  “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek…Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.  Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.”  Let in die Korintiër-teks op dat die gemeentes van Galasië ook op Sondae vergader het om iets vir die Here se werk te gee.  Selfs in Ou Testament feeste is spesiale sabatte dikwels op ander dae van die week gehou (lees gerus Levitikus 23).  Hoekom kan die Sondag dan nie ook in die Nuwe Testament as ‘n rusdag herdenk word om Christus se opstanding te vier nie?

 

Moet dan nie glo wanneer mense vir jou sê dat dié wat nie op Saterdae kerk toe gaan nie, ongered is.  Om so te sê impliseer direk dat die onderhouding van ‘n sewende dag Sabbat jou red.  Hierdie is nie die Bybelse evangelie van Christus alleen nie, maar ‘n vals evangelie van Christus plus.  Moenie meer maak van die spesifieke dag as van die rus wat heenwys na Christus nie:  “Laat niemand julle dan oordeel…met betrekking tot ‘n sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kolossense 2:16-17).  Hoe rus ‘n mens in Christus?  Deur geloof en die evangelie:

 

“Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het:  Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is.  Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek:  En God het op die sewende dag van al sy werke gerus…Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.” (Hebreërs 4:3-4, 9-10).  Dit is duidelik dat die sabbatsrus in Hebreërs 4 met verlossing te doen het.  En die verlossing is voltooi op die eerste dag, die dag van Jesus se opstanding, en nie op die sewende dag nie.  Wat help dit jy volg ’n sekere dag slaafs na as jy nog nie die rus van verlossing ingegaan het nie?

 

‘n Dag van RUS

‘n Ma sien haar kind is moeg en sal moeilik by die skool konsentreer as hy nie dadelik gaan slaap nie.  Maar die kind beskou slaap as ‘n straf.  Ons is baie keer soos kinders.  God het bedoel dat rus ‘n seën moet wees, maar soos die hardkoppige Israeliete beskou ons dit as ‘n straf.  Die Fariseërs was wetties hieroor en het hulle eie reëls as ‘n las neergelê.  Jesus het kom wys dat die Sabbat nie bedoel was as ‘n straf nie, maar ‘n seën:  “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.” (Markus 2:27).

 

As God wou, kon Hy alles binne ‘n sekonde geskep het.  Die rus in Genesis 2:2 beteken nie dat God nooit weer gewerk het, of dat Hy uitgeput was nie.  Die Skrif sê immers dat God nooit ophou om te werk nie, en dat Hy nie uitgeput kan raak nie (Jesaja 40:28, Johannes 5:17).  Hoekom het God dan die wêreld in ses dae gemaak en op die sewende dag gerus?  Hy het dit gedoen om ‘n werk-rus siklus te skep vir die mens:  “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.  Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.  Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus.  Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Eksodus 20:8-11).  Ja, jou liggaam moet rus en jy moet tyd met jou gesin spandeer.  Maar die rus vir jou siel moet prioriteit geniet.  Daarom is dit nooit reg om op ‘n Sondag langs die Vaaldam te sit of met familie te kuier ten koste van die gemeenskap van gelowiges en die prediking van die Bybel nie.  Hier is sestien voordele vir Christene wat hierdie rusdag reg vier:

 

[1] Blydskap in die Here – goeie medisyne vir depressie.  [2] Geestelike groei.  [3] Hernude krag vir die week se werk.  [4] Jou week begin goed – jy hoef nooit weer ‘n blou Maandag te hê en te sê dat jou week sleg begin het nie.  [5] ‘n Gesonde huwelik en gesinslewe, omdat julle saam tyd spandeer.  [6] Jy is uitgerus en sal nie so maklik uitbrand soos ander nie.  [7] Jy leer afhanklikheid van die Here.  God wil hê jy moet Hom vertrou om jou sewe dae se salaris te gee vir net ses dae se werk:  “Kyk, omdat die HERE julle die sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae.  Laat elkeen bly waar hy is; laat niemand op die sewende dag van sy woonplek af weggaan nie.” (Eksodus 16:29).  [8] God se voorsiening.  As jy sy Koninkryk eerste stel sal Hy sorg dat jy die nodig kos en klere het (Matteus 6:33).  Jy sal nie ekstra geld hoef te spandeer vir:

 

  • Nóg petrol om werk toe te gaan nie.
  • ‘n Huweliksberader, omdat jy alewig werk en nie tyd met jou huweliksmaat spandeer nie.
  • Ekstra slytasie op jou kar nie.
  • ‘n Creche of iemand anders wat jou kind moet oppas, terwyl jy werk nie.
  • Pille om die stres van ‘n 24/7 werkslading te hanteer nie.

 

[9] God glimlag oor jou en sal jou nie tugtig nie.  [10] Jou gewete sal jou nie pla, omdat jy opsetlik wegbly van gemeentelike samekomste nie.  [11] Gesondheid.  Jy sal nie ly aan allerhande stres-verwante siektes nie.  [12] Kwaliteit werk.  Omdat jy uitgerus voel, sal jy nie onnodige foute maak nie.  [13] Harde werk.  As jy weet jy gaan volgende week met vakansie, werk jy ekstra hard omdat jy nie onvoltooide werk met jou wil saamneem nie.  As jy op Sondae rus is daar ‘n ‘deadline’.  Jy werk harder omdat jy nie onnodig werk na volgende week toe wil oordra nie (ek sê nie dat mense wat nie op Sondae rus nie hard werk nie.  My punt is eerder dat ‘n rusdag harde werk aanmoedig).

 

[14] Nederigheid en self-verloëning.  ‘n Trotse persoon dink hy is ‘n tipe supermens wat nie rus nodig het nie.  Die Christen wat op Sondae rus wil nie doen wat hy wil nie, maar wat God sê.  Dit kweek nederigheid.  [15] Dit vernietig afgodery.  Om op die Sondag te rus herinner ons daaraan dat God die Skepper van alle dinge is.  “Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.” (Eksodus 31:17).  [16] Dit laat ons meer verlang na die ewige rus van die hemel:  “En ek het ‘n stem uit die hemel aan my hoor sê:  “Skryf salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe.  Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.” (Openbaring 14:13).

 

God het beplan dat ons 52 dae in ‘n jaar moet af hê.  Dit is jammer dat ons dit nie gebruik nie.  Dit is jammer dat party base dit gebruik, maar nie toelaat dat hulle werknemers rus, kerk toe gaan, en met hulle gesinne kan wees nie.  Hulle behoort elke Sondag toe te laat dat hulle werkers hierdie voorreg geniet – ook tydens voorraad opname en maandeinde:

 

“Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asem skep.” (Eksodus 23:12).

 

“Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus.  In die ploegtyd en in die oestyd moet jy rus.” (Eksodus 34:21). 

 

“maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy.  En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ‘n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.” (Deuteronomium 5:14-15).

 

Hoe rus ‘n mens op Sondae?  Hier is ‘n paar Bybelse opdragte en beginsels:

 

  • Onthou die skepping:  geniet die prag, stilte en vrede daarvan (Eksodus 20:11).
  • Gebruik God se genade middele om te groei in heiligheid.  Die Here se dag is afgesonder (‘heilig’) om te wys dat God ons vir Homself afgesonder het:  “Spreek jy met die kinders van Israel en sê:  Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig.” (Eksodus 31:13).  Psalm 92 is ‘n lied vir die Sabbat.  Die Psalmis sê dat ons op hierdie dag in die Here moet groei:  “Die regverdige sal groei soos ‘n palmboom; hy sal opgroei soos ‘n seder op die Líbanon.  Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God.  In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees” (Psalm 92:13-15).
  • Onthou dat God jou uit slawerny gered het om in Hom te rus:  “En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ‘n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.” (Deuteronomium 5:15).
  • Besing die Here se lof:  “‘n Psalm.  ‘n Lied vir die sabbatdag.  Dit is goed om die HERE te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste, om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte; by die tiensnarige instrument en by die harp, by snarespel op die siter.” (Psalm 92:1-4).
  • Vergader saam met die gelowiges:  “Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.” (Lukas 4:16).  “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:25).
  • Aanbid die Here in jou stiltetyd (sien Psalm 92:2-3 hierbo).
  • Getuig van God se goedheid:  “om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte” (Psalm 92:3).
  • Bely jou sonde en bekeer jou daarvan.  God haat dit as jy Hom in sy huis aanbid, terwyl jou hart vol van sonde is:  “Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My.  Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste—Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie!” (Jesaja 1:13).
  • Wees bly.  Moenie Sondae as ‘n swaar las sien nie.  Moenie sê:  ‘Ek haat Sondae’ nie.  Moenie wens dat die dag gou verby gaan, sodat jy jou wil kan doen nie.  “As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.” (Jesaja 58:13-14).  “[Julle] sê:  Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en die sabbat, sodat ons die graanskuur kan oopsluit—om die efa te verklein en die sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met ‘n valse weegskaal” (Amos 8:5).  Die laasgenoemde teks wys hoe die Jode vroom was op die Sabbat, maar op die eerste werksdag daarna voortgegaan het om skelm besigheid te doen.  In die moderne idioom:  Sondag-soeker, Maandag-vloeker.
  • Moenie wetties wees en selfregverdig op ander neersien nie.  Om te sê dat ‘n mens nie op Sondae kaart mag speel of na musiek mag luister nie, is om jou eie reëls te volg en nie God s’n nie.  Dis klink amper soos die Fariseërs wat kwaad was toe die dissipels koring gepluk en Jesus mense gesond gemaak het op die Sabbat (cf. Matteus 12:2, 8, Lukas 13:14-16, 14:1, Johannes 9:14, 16).
  • Doen goed en help dié wat in nood is:  “Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie?  Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie!  So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen.  Toe sê Hy vir die man:  Steek jou hand uit!  En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een.” (Matteus 12:11-13).  ‘n Mens kan verstaan as polisiemanne, dokters of verpleegsters op ‘n Sondag móét werk om mense se lewens te red.
  • Vier die nagmaal en luister na die prediking van God se Woord (cf. Handelinge 20:7).
  • Dra by tot die Here se werk (cf. 1 Korintiërs 16:1-2).
  • Spoor ander gelowiges aan tot liefde en goeie dade:  “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:24-25).
  • Voer die mekaar-opdragte uit:  bid vir mekaar, wees lief vir mekaar, dien mekaar, bemoedig mekaar, ensovoorts.

 

Eric Liddell (die film, Chariots of Fire handel oor sy lewe) was ‘n Skotse atleet in die 1924 Olimpiese Spele.  Hy het geweier om op ‘n Sondag die 100 meter te hardloop.  ‘n Paar dae later het hy die 400 meter gehardloop, goud verwerf en die wêreld rekord gebreek.  Wat iemand net voor die wedloop vir Liddell gesê het, geld ook vir ons:  “die wat My eer, sal Ek eer” (1 Samuel 2:30).

 


[1] Die teks sê ‘agt dae later’.  Die Jode sou van Sondag tot Sondag tel, en daarom praat Johannes van agt dae en nie van sewe nie.

Hoekom gaan ons nie op Saterdae kerk toe nie?

“Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan word, moet jy sewe weke begin tel.  Dan moet jy die fees van die weke hou vir die Here jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die Here jou God jou sal seën.  En jy moet vrolik wees voor die aangesig van die Here jou God, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is, en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is, op die plek wat die Here jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.  En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipte was; en jy moet hierdie insettinge sorgvuldig hou.” (Deuteronomium 16:9-12).

 

(1) Wanneer is die fees gehou? (verse 9-11)

(2) Wat het by die fees gebeur? (verse 10-12)

 

‘n Arm man buite ‘n kafee het vir my vriend gevra:  “Hoekom val paasnaweek elke jaar op ‘n ander naweek?”  My vriend het toe aan my die vraag kom stel. Ek het nie geweet nie.  Ek het ook gewonder:  “Ja, hoekom is paasnaweek nie elke jaar die eerste naweek in April of die laaste naweek in Mei nie.”  Hy het ‘n Google search gedoen en die antwoord gekry.  Ek het in daardie selfde week ‘n DVD gekyk en die antwoord gekry.  Die antwoord is eenvoudig.  As die aarde een keer rondom die son gewentel het sê ons dis ‘n jaar.  Maar die Joodse kalender werk nie volgens die son soos óns s’n nie.  Hulle kalender werk volgens die fases van die maan.  Ons jaar het dus 365 dae in en ‘n paar dae minder as dit skrikkeljaar is.  Die Joodse jaar het 353 tot 355 dae, en tussen 383 en 385 dae in ‘n skrikkeljaar (wat net elke sewende jaar is en nie elke vierde jaar soos óns kalender nie).  Vir ‘n Jood is 1 Januarie nie die begin van die nuwe jaar nie.  Vir hulle val nuwejaarsdag êrens in Maart of April.  Die rede?  Want God het gesê dat die maand waarin hulle uit Egipte bevry is die eerste maand van die jaar sal wees vir hulle (Eksodus 12:2).  Paasfees is dan op die 14de dag van hierdie maand (Nisan) gevier (Eksodus 12:6). 

 

Toe Jesus tydens die paasfees gekruisig is, het die fees (14 Nisan) geval op ‘n Vrydag (party glo Jesus is op ‘n Woensdag gekruisig, maar ons sal later sien dat dit níé so is nie).  Toe Jesus dus as ons Paaslam geslag is het Hy híérdie fees vervul (1 Korintiërs 5:7).  Die dag ná Paasfees het die Fees van Ongesuurde Brode begin (Levitikus 23:6).  Gewoonlik sou die vroue ‘n stukkie deeg afknyp en vir ‘n paar dae eenkant sit sodat dit kon ruis.  Daardie stukkie gegiste deeg sou in die groot bol deeg teruggeknie word, en so sou die hele deeg ruis.  Maar hierdie keer was daar nie tyd nie.  Die Israeliete moes haastig uit Egipte uitgaan.  Farao het hulle as’t ware uitgeskop.  Die brood sonder suurdeeg was plat en smaakloos.  Wanneer hulle jaarliks hierdie fees gevier het, sou hulle onthou dat hulle haastig uit Egipte uit is.  Hulle moes nooit verlang om na slawerny terug te keer nie.  God het hulle uitgered.  Daar was ook ‘n ander simboliek in die ongesuurde brood.  Net soos wat ‘n bietjie gis die hele deeg laat ruis, so sou ‘n bietjie sonde ‘n persoon se hele lewe en die lewe van ander benadeel en beïnvloed.  Jesus het dus deur sy kruisdood ons van slawerny aan sonde bevry, die suurdeeg van sonde verwyder, en só die fees vervul (1 Korintiërs 5:6-8). 

 

Nóg ‘n dag later is die eerste sekel van die seisoen in die garslande gesteek.  Die eerstevrug is vir die priester gebring en in die lug gewaai as ‘n beweegoffer (Levitikus 23:10-11).  Die eerstevrug aan die Here was ‘n waarborg dat daar ‘n verdere oes sou wees.  In die woorde van Salomo:  “Vereer die Here uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.” (Spreuke 3:9-10).  Jesus vervul ook híérdie Fees van die Eerstevrug deurdat Hy die eerstevrug uit die dood is en so ook óns opstanding (geestelik én liggaamlik) waarborg (1 Korintiërs 15:20, 23).  Vyftig dae of sewe weke ná die Sabbat van Ongesuurde Brode was dit die Fees van  Weke (v.9, Levitikus 23:15-16).  ‘n Ander naam vir die Fees van Weke is die Fees van die Oes of Pinksterfees.  Die naam ‘Pinkster’ kom van die Nederlandse woord ‘Pinksteren’ van ‘Pentecost’ beteken.  Die Engelse naam ‘Pentecost’ kom van die Griekse woord Pentekoste wat ‘vyftigste’ beteken.  As ons sewe weke tel ná Jesus se opstanding op die Sondag, of vyftig dae ná die Saterdag wat Jesus in die graf was (die Fees van Ongesuurde Brode), dan val Pinkster in Handelinge 2 op ‘n Sondag.  Só word die Nuwe Testamentiese kerk dan op ‘n Sondag gebore.  Die Fees van Weke is vervul toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is.

 

Moenie dat die Sewendedag Adventiste en ander jou flous deur te sê dat die Rooms-Katoliekekerk en Keiser Konstantyn die Sabbat van ‘n Saterdag na ‘n Sondag verander het nie.  Hulle sal sê dat die sewende rusdag ‘n skeppingsorde is, en dat niemand ‘n skeppingsorde kan verander nie.  Maar as gevolg van die mens se sonde het die skepping tot ‘n val gekom.  Deur Jesus se kruisdood oop die Vrydag en sy opstanding op die Sondag, het Gód ‘n nuwe skepping tot stand gebring:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (2 Korintiërs 5:17, beklemtoning my eie).  Die nuwe skepping is verseker en geseël deurdat Jesus op die eerste dag van die week opgestaan het uit die dood.  Soos reeds gesien vervul Jesus deur sy opstanding die Fees van die Eerstevrug en deur die uitstorting van die Heilige Gees vervul Hy die Fees van Weke.  Beide hierdie Feeste is op ‘n Sondag vervul, en juis daarom ontmoet gelowiges op ‘n Sondag.  Let maar op hoe die vroeë kerk op ‘n Sondag bymekaargekom het.

 

“Maar ná die dae van die ongesuurde brode het ons van Filíppi uitgeseil en binne vyf dae by hulle in Troas gekom waar ons sewe dae deurgebring het.  En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe.” (Handelinge 20:6-7).  Hoekom sou Paulus ’n hele sewe dae langer in Troas bly as hy haastig oppad was Jerusalem toe (sien Handelinge 20:16)?  Hy het gewag vir die eerste dag van die week.  Hy het Maandag in Troas aangekom en gewag vir Sondag wanneer die gelowiges op die Here se Dag bymekaarkom.  Op daardie Sondag het die dissipels spesifiek vergader om die nagmaal te vier.  Hier het Paulus ook vir hulle gepreek.

 

“Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.  Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.” (1 Korintiërs 16:1-2).  Net soos al die gemeentes in die Galasië-provinsie het ook die Korintiërs op Sondae bymekaargekom.  Dit was ’n algemene patroon in die Nuwe Testamentiese kerk dat gelowiges op Sondae ontmoet het.

 

In die Ou Testament reeds is dit voorspel dat dit só sou wees.  In Psalm 118:24 lees ons:  “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”  Wat is hierdie dag wat deur die Here gemaak is waarin ons moet bly wees?  Die vorige verse sê vir ons:  “Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword.  Dit het van die Here gekom; dit is wonderbaar in ons oë.” (Psalm 118:22-23).  Die dag waarin die verwerpte steen die hoeksteen geword het – dít is die dag waarin ons moet bly wees.  Wanneer is die steen verwerp?  Toe Jesus gekruisig is.  En wanneer het Hy die hoeksteen geword?  Toe God Hom op die eerste dag van die week uit die dode opgewek het.  Petrus het dit só verstaan:  “laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.  Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het.” (Handelinge 4:10-11).  Dan is die Sondag van Jesus se opstanding die dag waarin ons moet bly wees.  En hierdie Sondag vier ons elke week.

 

Baie van die Ou Testamentiese feeste is vervul.  Christene hoef dus nie ‘n kalender te volg om Jesus se geboorte, dood, hemelvaart, die uitstorting van die Heilige Gees, en ander Christelike dae te vier nie.  Ons hoef ook nie begerig te wees om enige Ou Testamentiese feeste in Jerusalem by te woon nie.  Volgens Kolossense 2:16-17 was hierdie feeste net ‘n skadu van die ewige fees van die hemel en verlossing wat ons in Christus vier:  “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”  Ons hoef nie eenmaal ‘n jaar aan Jesus se dood te dink op Goeie Vrydag nie, maar ons doen twee keer ‘n maand so by die nagmaaltafel.  Ons hoef nie eenkeer ‘n jaar sy opstanding te vier nie, maar loof Hom elke Sondag hiervoor en vir ons lewe in Hom.  Ons loof Hom nie net eenkeer ‘n jaar vir hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees nie.  Ons dank Hom elke keer hiervoor wanneer daar ‘n bekering is, wanneer ons ons eie redding onthou, en wanneer ons tot Hóm bid wat nou in die hemel is.  Uiteindelik sal die hemel self ‘n ewige fees wees (Openbaring 19:7-9).  Die groot vraag is:  Sal jy die fees bywoon?  Of sal jy ook sê dat jy ander dinge het om te doen en nie na die fees toe kan kom nie (Matteus 22:1-14)?