Hoe om konflik te hanteer

Conflict

13:10 Vermetelheid gee net getwis af; maar by die wat hulle laat raai, is wysheid. 16:28 ‘n Man van valse streke saai tweedrag, en ‘n kwaadstoker skei vriende van mekaar. 17:14 Die begin van ‘n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek. 17:19 Wie twis liefhet, het oortreding lief; hy wat sy deur hoog maak, soek verbreking. 18:19 ‘n Broer teen wie oortree is, is erger as ‘n sterk stad; en geskille is soos die grendel van ‘n paleis. 20:3 Dit is ‘n eer vir ‘n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los. 22:10 Dryf die spotter weg, dan gaan die twis weg; en die stryery en die geskimp hou op. 26:17 Hy wat ‘n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor ‘n twis wat hom nie aangaan nie. 26:20 Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis. 26:21 Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is ‘n twisgierige man om ‘n twis aan te hits. 28:25 Die hebsugtige verwek twis; maar hy wat op die HERE vertrou, word verkwik.” (Spreuke).

 

Die oorsake van konflik

[1] ‘n Vriend van my het raad aan sy susterskind gegee.  Die jongman wou nie die raad aanvaar nie en het kwaad geword.  Dit het natuurlik op twis uitgeloop.  Wat was die eintlike oorsaak van die argument?  Hoogmoed.  ‘n Trotse persoon dink hy weet alles en is nie gewillig om raad te ontvang nie:  “Vermetelheid gee net getwis af; maar by die wat hulle laat raai, is wysheid.” (13:10).  As ander mense nie sý punt insien nie, baklei hy met hulle.  Jy kan maar weet dat iemand wat gereeld met ander vassit ‘n hoogmoedige mens is.  Iemand wat twis vermy is wys.  Hy is oop om geleer te word en verkry só wysheid (13:10b).

 

[2] Skinder laat twis soos ‘n brand versprei:  “‘n Man van valse streke saai tweedrag, en ‘n kwaadstoker skei vriende van mekaar.” (16:28).  Dit laat my dink aan ‘n storie wat my kinders gereeld kyk – Die Brakkers.  In die storie vertel ‘n sekere mnr. Pretorius vir Hendrik dat Gieljan ‘n wrok teen hom het.  Hy gaan dan na Gieljan toe en sê dat Hendrik ‘n wrok teen hóm het.  Dié twee is kwaad vir mekaar en wil die ding uitbaklei.  Uiteindelik kom die storie uit:  Tydens sy vakansie het Gieljan ‘n blok (nie wrok) sjokolade vir Hendrik gekoop.  Mnr. Pretorius het toe ‘blok’ in ‘wrok’ verander en tweedrag gesaai.  Moenie soos mnr. Pretorius wees, en die hout van skinder laai, om so die vuur van twis aan die gang te hou nie:  “Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis.  Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is ‘n twisgierige man om ‘n twis aan te hits.” (26:20-21).

 

[3] Dwaasheid lei na twis, terwyl ‘n eerbare persoon dit vermy:  “Dit is ‘n eer vir ‘n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los.” (20:3).  Dit is kinderagtig vir ‘n man en vrou om te stry oor waar die tandepasta gedruk moet word of watse kant toe die toiletrol moet kyk.  Hoekom stry ons oor ‘n stuk metaal of papier (geld); oor watse kos jý nie kon kry nie?  Stop dit.  Die dwaas kan net nie die versoeking om te twis weerstaan nie.  Volg eerder die voorbeelde en lering van die Bybel:  “En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot.  Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon.  Toe sê Abram vir Lot:  Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers.  Lê die hele land nie voor jou oop nie?  Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.” (Genesis 13:7-9).  “toe [Jesus] uitgeskel is, [het Hy] nie terug uitgeskel nie; toe Hy gely het, [het Hy] nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23).  “Jaag die vrede na met almal…” (Hebreërs 12:14).  1 Petrus 3:11 sê die persoon wat goeie dae wil sien moet “vrede soek en dit najaag.”  Natuurlik moet ons nie ten koste van die waarheid konflik vermy nie.  Soos die Engelse spreekwoord lui:  ‘Peace if possible, truth at any cost.’

 

[4] Wanneer mense inmeng in sake wat niks met hulle te doen het nie, lei dit tot twis.  Om dít te doen is soos om ‘n vreemde straatbrak aan die ore te gryp:  “Hy wat ‘n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor ‘n twis wat hom nie aangaan nie.” (26:17).  Daar is baie kwaai honde in ons wêreld.  As kind is my suster twee keer deur ‘n Rottweiler gebyt toe sy die hond probeer vryf het.  Mense in Nelspruit se Rottweiler het nie daarvan gehou dat ‘n mens aan sy ore vat nie.  Maar Salomo se beeld in 26:17 moenie in ons konteks geïnterpreteer word nie.  Honde in ou Israel was baie wreder en gevaarliker as ons moderne troeteldiere.  Dit was nie vreemd vir ‘n hond om ‘n mens se lyk te verskeur en op te vreet nie (sien 2 Konings 9:35-36).  Wat is die les?  Moenie in argumente betrokke raak wat jou nie aangaan nie – jy sal gebyt word.  Soms moet jy intree, maar 26:17 is die algemene reël.  Twee ander tekste wat dieselfde les leer is Spreuke 3:30 en 1 Tessalonisense 4:11:  “Twis nie sonder oorsaak met ‘n mens as hy jou geen kwaad gedoen het nie… julle eer daarin te stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het”.

 

[5] Gierigheid is ‘n definitiewe oorsaak van twis:  “Die hebsugtige verwek twis…” (28:25a).  Een koerantopskrif het gesê:  ‘Hou op stry oor Madiba se geld’.  Die gierige persoon sal baklei vir meer geld, en as hy dit nie kan kry nie sal hy nog verder baklei:  “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle?  Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?  Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie.  Julle veg en maak oorlog, en julle het nie…” (Jakobus 4:1-2a).

 

Die gevolge van konflik

[1] Familie-verhoudings word versuur – so erg dat dit byna onmoontlik word om dit op te los.  Dit is soos stadsmure of die grendels van ‘n kasteel:  “‘n Broer teen wie oortree is, is erger as ‘n sterk stad; en geskille is soos die grendel van ‘n paleis.” (18:19).  Dit is maklik om hierdie mure op te bou en baie moeilik om dit af te breek.

 

[2] Soos die vloedwater van ‘n rivier, kan konflik choas veroorsaak:  “Die begin van ‘n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek.” (17:14).  Twis kan lei tot egskeiding, gebroke families, lelike skoonfamilie probleme, kerke wat skeur, werksverhoudings wat versuur word, en sonde met die bure.

 

Die oplossing van konflik

[1] Waar begin hierdie verwoestende vloed waarvan ek nou-net gepraat het?  Dit begin dikwels by ‘n kraak in die damwal.  As jy dit nie gou keer nie sal die vloed deurbreuk en alles voor dit wegvee.  Die oplossing is dan om die twis te keer terwyl jy nog kan:  “Die begin van ‘n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek.” (17:14).  Indien dit reeds losgebreek het kan geen mens dit keer nie.  Maar Jesus kan.  Hy het die grootste gemors nog ooit opgelos (sonde), en daarom kan Hy ook in so ‘n situasie genade en herstel gee.

 

[2] By ‘n manne byeenkoms in Wallis het ‘n jongman die Godheid van Christus betwyfel.  Martyn Lloyd-Jones het die man weggejaag.  Die probleem is nie die omstandighede nie, maar die persoon.  Daarom moet jy die molesmaker uitdryf:  “Dryf die spotter weg, dan gaan die twis weg; en die stryery en die geskimp hou op… Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis.” (22:10, 26:20).  Die Nuwe Testament leer dat ons so ‘n persoon moet ignoreer en onder kerktug moet plaas:  “as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar… Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan.” (Matteus 18:17, Titus 3:10-11).  Bid dat die Heilige Gees hierdie persoon se hart sal verander.

 

[3] Sien jouself in die lig van God se heiligheid en die kruisdood van Jesus.  Dán sal jy besef hoe sondig jy is; jy sal weet jy is niks.  Verloën jouself en neem jou kruis op (Lukas 9:23).  En wanneer jy jouself verneder het sal die twis opgelos word (sien 13:10).

 

[4] Vermy die persoon wat skinder.  Moenie opsetlik onderwerpe aanraak wat jy weet rusie sal veroorsaak nie.  Verlaat die vertrek eerder as om te twis.  Verander die onderwerp.  Gee toe – jy hoef nie altyd te wen nie.  Moenie nog hout op die vuur laai nie, maar smoor dit deur op te hou met skinder.  Gaan ‘n kompromie aan:  hoekom kan albei se antwoorde nie reg wees nie?  Al die genoemde dinge is wat Salomo in 16:28, 20:3, 26:20-21 wil leer:  “‘n Man van valse streke saai tweedrag, en ‘n kwaadstoker skei vriende van mekaar… Dit is ‘n eer vir ‘n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los… Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis.  Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is ‘n twisgierige man om ‘n twis aan te hits.”

 

[5] ‘n Dwaas stry (20:3b).  Word wys deur die evangelie (1 Korintiërs 1:24, 30).  Vra vir die Here as jy wysheid kortkom (Jakobus 1:5).

 

[6] Vertrou die Here vir jou behoeftes – moenie baklei om te kry wat jy wil hê nie:  “Die hebsugtige verwek twis; maar hy wat op die HERE vertrou, word verkwik.” (28:25).  “…julle het nie, omdat julle nie bid nie.  Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jakobus 4:2b-3, cf. v.1-2a).  “Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matteus 6:32-33).

 

[7] Dit is sonde om vir jare ‘n wrok teen iemand te hou (18:19).  As jy ‘n gelowige is hou Jesus nie ‘n rekord van jou sonde teen Hom nie.  Wees dan soos Hy en vergewe ander (Efesiërs 4:32).  Sorg dat jy die sonde wat die twis veroorsaak het uit die weg ruim.  Gaan vra vergifnis vir dit wat jý verkeerd gedoen en gesê het.  Onthou dat Jesus die sterk muur wat gebou is (18:19), maklik kan afbreek:  “Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het” (Efesiërs 2:14).  Kan Jesus nie nogsteeds die mure van konflik en twis afbreek nie?

Advertisements

Opsoek na die regte huweliksmaat

Married couple holding hands

14:1 Die wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af.  18:22 Wie ‘n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ‘n welgevalle van die HERE verkry. 19:13 …die gekyf van ‘n vrou is ‘n aanhoudende gedrup. 19:14 Huis en goed is ‘n erfenis van die vaders, maar ‘n verstandige vrou is van die HERE.  21:9, 25:24 Dit is beter om op die hoek van ‘n dak te woon as by ‘n twisgierige vrou en ‘n gemeenskaplike huis. 21:19 Dit is beter om in ‘n woeste land te woon as by ‘n twisgierige vrou en ergernis.  27:15 ‘n Aanhoudende gedrup op die dag van ‘n stortreën en ‘n twisgierige vrou is net eenders. 27:16  Wie haar wil teëhou, hou wind teë, en sy regterhand ontmoet olie.” (Spreuke).

 

31:10 Wie sal ‘n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.  31:11 Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. 31:12 Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe. 31:13 Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande. 31:14 Sy is soos die skepe van ‘n handelaar—van ver af bring sy haar brood in. 31:15 En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies. 31:16 Sy dink na oor ‘n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy ‘n wingerd. 31:17 Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig. 31:18 Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie. 31:19 Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. 31:20 Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige. 31:21 Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof. 31:22 Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper. 31:23  Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit. 31:24 Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars. 31:25 Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom. 31:26 Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong. 31:27 Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie. 31:28 Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar: 31:29 Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal. 31:30 Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ‘n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word. 31:31 Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.” (Spreuke).

 

Waar kan jy die regte huweliksmaat kry?

Abraham het sy slaaf gestuur om ‘n vrou te kry vir Isak.  Hy het gebid, en die Here het die regte vrou gestuur (sien Genesis 24).  God het gesien dat Adam ‘n vrou moes hê, en daarom het Hy vir hom ‘n helper gemaak (Eva, sien Genesis 2:18).  Volgens Salomo is die regte vrou ‘n geskenk van die Here:  “Wie ‘n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ‘n welgevalle van die HERE verkry… Huis en goed is ‘n erfenis van die vaders, maar ‘n verstandige vrou is van die HERE.” (18:22, 19:14).  Daar is jou antwoord:  jy kan die regte huweliksmaat kry by die Here.  Vra vir Hom.

 

Hoekom moet jy die regte huweliksmaat kry?

Tydens ‘n onlangse wegbreek in die wildtuin het ons tent gelek.  Dit was frustrerend en irriterend.  Wanneer jou huis se dak lek is dit nie net irriterend nie; dit kan doen skade en baie geld kos.  ‘n Vrou wat twis is so.  Soos die gedrup van water in die plafon, hou sy net nie op nie.  En net so min as wat jy die wind kan beheer of olie in jou hand hou, kan jy so iemand nie verander nie:  “…die gekyf van ‘n vrou is ‘n aanhoudende gedrup… ‘n Aanhoudende gedrup op die dag van ‘n stortreën en ‘n twisgierige vrou is net eenders.  Wie haar wil teëhou, hou wind teë, en sy regterhand ontmoet olie.” (19:13, 27:15-16).

 

In sy Spreuke kommentaar haal Derek Kidner die volgende Arabiese spreekwoord aan:  “Three things make a house intolerable:  tak [the leaking through of rain], nak [a wife’s nagging] and bak [bugs].” (Proverbs, p.133).  Dit is beter om in die woestyn of op ‘n plat dak in Palestina te bly, as saam met so ‘n man of vrou:  “Dit is beter om op die hoek van ‘n dak te woon as by ‘n twisgierige vrou en ‘n gemeenskaplike huis.  Dit is beter om in ‘n woeste land te woon as by ‘n twisgierige vrou en ergernis.” (21:9, 19, 25:24).  Is dit nie om hierdie rede wat baie mans en vrouens laat werk en nie wil huistoe kom nie?  Of ás hulle huistoe kom, sit hulle voor die TV.  Hierdie verse beveel nie egskeiding nie, maar wil ons eerder waarsku om nie met so iemand te trou nie.  Die ander les is duidelik:  as jý so ‘n persoon is moet jy jou bekeer.  Deur die evangelie is daar altyd hoop – Jesus kan die ergste sondaar verander (1 Korintiërs 6:9-11).

 

Hoe kan jy die regte huweliksmaat kry?

Deesdae bied tydskrifte en webtuistes vir mense die geleentheid om ‘n gepaste lewensmaat te ontmoet (ek hou nie baie daarvan nie, maar maak daarmee wat jy wil).  Vir Christene behoort Spreuke 31:10-31 die maatstaf te wees.  Hierdie verse is die ABC van die regte huweliksmaat (elke vers begin met ‘n letter van die Hebreeuse alfabet).  Die woord ‘deugsaam’ in v.10 word van Rut gebruik (Rut 3:11).  ‘n Studie van hierdie kort boek behoort ook ‘n groot hulp te wees in die soektog na die regte lewensmaat.  Natuurlik fokus Spreuke 31 hoofsaaklik op hoe ‘n goeie vrou lyk, maar die prinsiepe geld ook vir wat ‘n goeie man moet wees.  Hier is haar kwaliteite een vir een:

 

  1. Die regte lewensmaat is heel eerste baie waardevol, en daarom ook baie skaars:  “Wie sal ‘n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.” (v.10).  Enige antieke Jood wat die bruidprys vir haar wou betaal sou hop.  Maar as hy wys was, sou hy geweet het dis waarde vir sy geld.  En as jý so iemand ontmoet moet jy haar met albei hande vashou.

 

  1. Vir só iemand kan jy jou hart maar weggee.  Jy kan haar vertrou en weet sy sal jou nie verneuk nie:  “Die hart van haar man vertrou op haar” (v.11a).  So ‘n vrou bring vir haar man voordeel op elke vlak:  “aan wins sal dit hom nie ontbreek nie.  Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie…” (v.11b-12).  Sy bly getrou tot die dood toe:  “al die dae van haar lewe.” (v.12).

 

  1. Aan die orde van die verse in hierdie hoofstuk, word dit duidelik dat sy haar man bo haar kinders stel (hulle word immers ná hom genoem).

 

  1. Dié vrou haat nie huis werk soos baie vroue in ons dag nie.  Sy geniet dit om ‘n huisvrou te wees en werk hard:  “Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande.” (v.13).  Sy is nie bang om ver te ry vir winskopies nie.  Sy soek waarde vir haar geld.  “Sy is soos die skepe van ‘n handelaar—van ver af bring sy haar brood in.” (v.14).  Daar is nie winkels wat botter, melk en brood verkoop nie, en daarom staan sy vroeg op om kos vir haar huisgesin reg te kry.  Sy het ook ‘n span werkers vir wie sy take uitdeel.  “En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies.” (v.15).

 

  1. Met die wins wat sy uit haar klere-besigheid maak, beplan sy mooi, sodat sy ‘n stuk grond kan koop om ‘n wingerd te plant.  So sal sy druiwe, rosyne, druiwesap, wyn, en medisyne hê:  “Sy dink na oor ‘n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy ‘n wingerd.” (v.16, sien Lukas 10:34 vir wyn as medisyne).

 

  1. Sy maak ‘n gordel om haar middel vas, sodat sy nie oor haar eie rok struikel wanneer sy werk nie (sien 1 Konings 18:46).  Sy werk fisies hard in haar wingerd:  “Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig.” (v.17).  Is sy, soos baie vroue, ‘n lui slaapkous wat tot 11:00 in die bed lê?  Nee.  Sy is vroeg op (v.15) en werk tot laat:  “Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie.” (v.18).  Wat doen sy?  Sy maak haar eie gare, wol en materiaal:  “Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande…Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas.” (v.13, 19).  Die klere wat sy vir haar en haar gesin maak is mooi, elegant, en warm.  Sy maak ook haar eie beddegoed:  “Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof.  Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper.” (v.21-22).

 

  1. Wat doen sy met haar geld?  Ek weet nie presies nie, maar v.20 sê dat sy nie die armes vergeet nie.  Sy is baie vrygewig, en gee met beide hande (meervoud).  Haar hand is oop vir die armes.  Sy wag nie totdat hulle vra nie, maar strek haar hande uit na hulle.  “Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige.” (v.20).  Sy doen wat die wet leer:  “Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê:  Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.” (Deuteronomium 15:11, cf. Efesiërs 4:28).

 

  1. Haar man is ‘n ouderling in die stadspoorte waar al die administrasie van die stad gedoen word.  Hy is nie net bekend in ‘n sekere stad nie, maar onder die ouderlinge van die hele land:  “Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit.” (v.23).  Watse tipe man is hy?  Eksodus 18:21 sê vir ons:  “Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat.” (die hoofstuk gaan oor Moses wat 70 ouderlinge gekies het).  Die deugsame vrou ondersteun haar man.  Sy doen háár deel by die huis, sodat hy met ‘n geruste hart sý deel kan doen by die werk.  Hy hoef nie te wonder of alles by die huis in orde is nie.  Dié vrou weet dat sy haar man kan maak of breek.

 

  1. Die klere wat sy verkoop is sterk en mooi; dis uitvoer kwaliteit – so goed dat sy ‘n verskaffer is vir Kanaänitiese handelaars [Hebreeuse teks]:  “Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars.  Sterkte en eer is haar kleed…” (v.24-25).  Omdat sy wins maak is sy nie bekommerd oor die toekoms nie; sy weet sy het genoeg gespaar:  “…sy lag oor die dag wat kom.” (v.25).

 

  1. Sy leer vir haar kinders die Woord en weet hoe om dit met wysheid toe te pas:  “Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting [Hebreeus torah, wet] is op haar tong.” (v.26).  Sy gee uitvoering aan Deuteronomium 6:6-7:  “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”

 

  1. Die brood in haar spenskas het daar gekom deur harde werk en nie luiheid nie:  “Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie.” (v.27).

 

  1. Haar kinders respekteer haar en wys dit deur hulle liggaamshouding:  “Haar seuns tree op [staan op] en noem haar gelukkig…” (v.28a, sien Levitikus 19:32).  In sy kinders se teenwoordigheid prys die man sy vrou as die beste van die bestes:  “…haar man ook, en hy prys haar:  Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal. (v.28b-29).  Ook in die dorp het sy ‘n goeie reputasie en word sy geprys:  “Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.” (v.31).

 

  1. Hiérdie is die tipe vrou wat die Here vrees (v.30).  Soek ‘n vrou vir wie haar gesin en huishouding belangrik is:  “Die wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af.” (14:1, cf. 31:10-31, Titus 2:5).

 

  1. Die Bybel is nie teen aantreklikheid nie, maar onthou tog dat ons almal oud word, en dat uiterlike skoonheid vergaan:  “Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid…” (v.30).  Soek daarom ‘n lewensmaat wat die Here vrees.  Maak innerlike skoonheid jou kriteria:  “…‘n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word.” (v.30).

 

Hier is dan ‘n opsomming van die kwaliteite wat jy in ‘n goeie lewensmaat sal vind:

 

  • Gered en vrees God
  • Lojaal en betroubaar
  • Nederig:  stel ander bo hom- of haarself (Filippense 2:3-4)
  • Prioriteite in orde:  huweliksmaat, kinders, ander mense, werk
  • Werk deeglik en hard
  • Kan beplan
  • Kreatief (nie noodwendig kunstig nie, maar iemand wat in ‘n noodsituasie ‘n plan kan maak)
  • Liefdevol
  • Vrygewig
  • Wys
  • Lief vir die Woord
  • Vreesloos
  • ‘n Goeie reputasie
  • Sagmoedig

 

Vind jy Spreuke 31 aantreklik?  Dít is wat God wil hê jý moet wees, en dít is die tipe bruid wat Jesus vir Homself voorberei.  Paulus sê:  “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.” (Efesiërs 5:25-27).  Jy kan nie deur jou eie morele pogings so word nie.  Christus alleen kan jou so maak deur die evangelie.  Deur sy kruisdood bewerk Hy diep reiniging, sodat die onsigbare sondes in ons harte weggewas word.  Deur ‘n proses van heiligmaking verander die Heilige Gees ons al hoe meer en meer om soos Jesus te word.  Wanneer Jesus weer kom en ons Hom sien, sal ons soos Hy wees (1 Johannes 3:2).  Ons sal ‘n perfekte bruid wees wat skyn soos die son.  Jesus en sy Spreuke 31-bruid sal vir ewig lewe in mekaar se soete liefde en teenwoordigheid – die een perfekte huwelik…  ‘n huwelik sonder probleme!

‘n Waarskuwing aan rebelse kinders

Rebellious teen

15:5 Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys. 17:21 Hy wat ‘n dwaas verwek, vir hom sal dit ‘n bekommernis word; en die vader van die dwaas sal nie bly wees nie.  17:25 ‘n Dwase seun is ‘n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het.  19:13 ‘n Dwase seun is ‘n ramp vir sy vader…  20:20 Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood.  28:7 Wie die wet bewaar, is ‘n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande. 28:24 Wie sy vader of sy moeder berowe, en sê: Dit is geen oortreding nie! —hy is ‘n bondgenoot van ‘n man wat verderflik handel. 29:3 ‘n Man wat die wysheid liefhet, verbly sy vader; maar hy wat met hoere omgaan, bring die goed deur.  30:11 Daar is ‘n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie 30:17 ‘n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag—die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet.” (Spreuke).

Rebelse kinders vertoon dwaasheid

In sy kort autobiografie het ‘n prediker vertel van hoe lui hy was in sy jongdae.  Hy kon glad nie verstaan hoekom hy skooltoe moes gaan om te leer nie.  Ná skool het hy gehoop om vir die regering te werk:  hy wou soveel as moontlik geld verdien vir so min as moontlik werk.  Volgens Spreuke was hierdie ongeredde optrede ‘n vertoon van sy dwaasheid:  “Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys.” (15:5).  Enigiemand wat dissipline en lering verag of uitdaag, wys daardeur dat hy ‘n dwaas is.  Dalk word die kind se rebellie eers sigbaar in sy tienerjare, maar dit het al begin toe hy vier jaar oud was; toe hy jou gedurig uitgedaag het met:  ‘Maar hoekom moet ek?’, en jy niks daaraan gedoen het nie.  Kinders moet leer om die korttermyn pyn van tug te verdra, want dit sal oor die langtermyn vreugde verseker.

Rebelse kinders bedroef ouers

Toe sy seuns gedoop is het Charles Spurgeon gesê dat hy en sy vrou meer vreugde het oor hulle kinders se wedergeboorte, as wat hulle gehad het by hulle geboorte.  Met ouers van rebelse kinders is dit andersom:  toe die kind gebore is was daar groot vreugde, maar nóú is daardie selfde ouers bitter bedroef:  “Hy wat ‘n dwaas verwek, vir hom sal dit ‘n bekommernis word; en die vader van die dwaas sal nie bly wees nie…‘n Dwase seun is ‘n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het.” (17:21, 25).  ‘n Rebelse kind is selfsugtig in die kern van sy wese.  Hy soek net die dinge wat hóm bly maak en gee nie om as hy sy ouers en ander mense se harte breek nie.  Alles begin eintlik by rebellie teen God; by ‘n hart wat sý raad verwerp (Psalm 107:11).  Hierdie kind het ‘n nuwe hart nodig wat God en sy naaste sal liefhê; ‘n hart wat nie vir homself lewe nie:  “omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.” (2 Korintiërs 5:15).

Rebelse kinders sterf jonk

Hofni en Pinehas was rebels en het nie vir hulle pa geluister nie (1 Samuel 2:12-36).  Die Here het hulle doodgemaak (1 Samuel 4:11).  Die rebel is soos hierdie twee seuns.  Hy vloek sy ouers.  Soms doen hy dit nie met woorde nie, maar met sy oë.  God sal so ‘n kind se lewe soos ‘n lamp uitdoof; hy sal ‘n onmenslike dood sterf en nie begrawe word nie.  Die kraaie in die veld sal sy oë uitpik en die arende sal sy vleis afskeur en vir hulle kleintjies voer:  “Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood…Daar is ‘n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie…‘n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag—die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet.” (20:20, 30:11, 17).  Die gewone manier waarop so ‘n kind se lewe beïndig is, was deur steniging:  “En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word…En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.” (Eksodus 21:15, 17).  In Deuteronomium 21:18-21 lees ons:

“As iemand ‘n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie, dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek, en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê:  Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard.  Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe.  So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees.”

Volgens die Bybel is dit ’n skande om nié begrawe te word nie.  Mense wat deur die Here vervloek word, word deur die voëls en wilde diere opgegeëet:  “Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die HERE het dit gespreek.  Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die kind sterwe.  En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in ‘n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die HERE, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam.” (1 Konings 14:11-13).  “Aan dodelike siektes sal hulle sterwe, hulle sal nie beklaag of begrawe word nie, hulle sal mis op die aarde wees; en hulle sal deur die swaard en die hongersnood verteer word, en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.” (Jeremia 16:4).  Die rebel in Spreuke 30:17 is duidelik ‘n vervloeking en ‘n skande.

Ons kan God dank vir Jesus wat namens rebelle soos ons in die duisternis gesterf het; sy lewenslamp is namens ons uitgedoof (vergelyk 20:20 met Matteus 27:45-46).  Indien jy rebels is en jou nié wil bekeer nie, moet jy dink aan hoeveel kinders wat saam met jou op skool was, dood is; aan hoeveel van hulle kort ná skool oorlede is (ek kan aan meer as ‘n dosyn dink wat saam met my op skool was).  Pasop rebel – dalk is jý volgende.

Rebelse kinders beskaam ouers

In Bybelse tye moes die rebel wat terugkeer, vir ‘n paar dae in die straat gesit het, terwyl almal (ook kinders) hom gespot het.  Indien sy pa besluit het om hom te vergewe moes hy eers sy pa se voete soen, en is hy in die openbaar gegesel.  Sy pa het die terme van restitusie uitgespel.  Hy moes teen ‘n dagloner se betaling die geld wat hy sy pa gekos het, verdien en terugbetaal.  En indien hy die terme nagekom het sou sy pa hom miskien vergewe het (inligting verkry uit ‘n preek van John MacArthur oor die verlore seun in Lukas 15).

Hoekom die groot ‘fuss’?  Want rebelse kinders is ‘n skande vir hulle ouers se reputasie, die familienaam, en veel meer.  En baie dikwels is dit ‘n verkeerde vriendegroep wat dinge vererger:  “Wie die wet bewaar, is ‘n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande.” (28:7).  “Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.  Want ‘n drinker en ‘n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.” (23:20-21, cf. 1 Korintiërs 15:33).  Die kind wat met verkeerde vriende eet, drink en partytjie hou, steek sy ouers in die skande.  ‘n Ouer wat toelaat dat klein kinders hulle eie vriende kies is dwaas.  Jy moet hulle help en leer watse tipe vriende om te kies.  Sorg dat jy die ouers en kinders baie goed ken.  Leer vir jou kinders die ware wysheid van Jesus en sy Woord, sodat hulle dít kan doen en reg kan optree (28:7a, 1 Korintiërs 1:30).  As jy dit doen, sal jy die kanse dat hulle rebelleer aansienlik verminder.

Rebelse kinders ruïneer ouers

Die verlore seun het sy pa se geld gemors op partytjies en alles wat daarmee saamgaan:  drank en slegte vroue (Lukas 15:13, 30).  Die rebel ruïneer sy ouers op elke gebied:  hulle reputasie, finansies, die familienaam, die huishouding en meer:  “‘n Dwase seun is ‘n ramp vir sy vader…” (19:13a).  Die pa se geld word gemors op slegte vroue, drank en dwelms.  En omdat die jongmens dít gedoen het eerder as om te studeer, druip hy sy jaar en moet sy pa vir nóg ‘n jaar studiegelde betaal:  “‘n Man wat die wysheid liefhet, verbly sy vader; maar hy wat met hoere omgaan [veral die tempel-prostitute van Kanaän] bring die goed deur.” (29:3).  Hierdie kind is ‘n verlies vir sy ouers.  Omdat hy dronk bestuur en die kar stamp, kos dit hulle duisende rande.  Hulle moet betaal vir hofsake en moet hom keer op keer uit die tronk uit ‘koop’.  Hulle spandeer tienduisende rande op sielkundiges en psigiaters om hom te probeer help.  Hý is die rede dat hulle mediese bronne uitgeput raak, omdat hy gedurig in die hospitaal beland deur karongelukke of vuisgevegte in die kroeg.  Hy steel sy ouers se besittings en verpand dit om geld te kry vir dwelms.  En wanneer hy ouer word sorg hy nie finansieel vir sy bejaarde ouers nie.

Deur al hierdie dinge te doen is hy niks anders as iemand wat sy ouers se lewens ruïneer en verwoes nie:  “Wie sy vader of sy moeder berowe, en sê:  Dit is geen oortreding nie! —hy is ‘n bondgenoot van ‘n man wat verderflik handel.” (28:24).  Indien jy ‘n jong kind is wat jou ouers se geld steel of lekkers uit die kas steel, sê die Here vir jou:  Stop nóú!  As jy nie ophou nie sal dit erger word.  Binnekort sal jy nie net lekkers steel nie, maar karre.  En die dag gaan kom wanneer jou ouers jou nie meer kan ‘uit bail’ nie.

Twee dinge wat ouers en kinders vergeet het

Aged parent

13:22 ‘n Goeie mens laat sy kindskinders erwe, maar die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre.  14:26 In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ‘n sodanige sal daar ‘n toevlug wees.  15:20 ‘n Wyse seun verbly sy vader, maar ‘n dwase mens verag sy moeder.  17:2 ‘n Verstandige dienaar sal heers oor ‘n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel.  19:26 Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is ‘n seun wat skande maak en skandelik handel.  20:7 Wie in sy regskapenheid wandel as ‘n regverdige—gelukkig is sy kinders ná hom.  23:22 Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.  23:23 Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand. 23:24 Die vader van ‘n regverdige juig baie; en as iemand ‘n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. 23:25 Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.  27:8 Soos ‘n voël wat ver van sy nes af rondvlieg, so is ‘n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe.” (Spreuke).

 

Sekuriteit vir jong kinders

Ons almal weet van besighede wat vir geslagte in ‘n familie bly.  ‘n Slim ouer dink, werk en beplan so.  Hy werk nie net vir die hier en nou nie.  Hy dink nie net aan homself nie, maar ook aan sy kinders en kleinkinders se toekoms:  “’n Goeie mens laat sy kindskinders erwe” (13:22a).  “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” (Psalm 37:25).  Net soos wat Jesus ‘n erfdeel vir sý kinders nalaat, moet ons vir óns s’n doen.  Dit is nie altyd moontlik nie, maar indien jy kan, moet jy vir hulle ‘n materiële erfenis gee.  Indien jy dit nie kan doen nie, sal God vir hulle sorg.  Alles is buitendien God s’n, sodat Hy dikwels die goddelose se rykdom vir die regverdige gee.

 

‘n Baptiste predikant in ons land het ‘n ongelowige swaer gehad.  Dié swaer was ‘n multi-miljoenêr, maar het die evangelie gehaat en wou nie veel met die predikant te doen hê nie.  Die slegte man het sy vrou (die predikant se suster) geslaan, sodat sy gereeld haar broer gebel het en met trane gesê het:  “My man gaan my doodmaak.”  Hulle het in hulle kar geklim en die 700 km afgelê om mooi met die man te praat.  Maar hy was so hard soos ‘n klip.  Uiteindelik het sy vrou siek geword en is sy oorlede.  Die predikant het hom gereeld gebel om te hoor hoe dit met hom gaan.  Hy was nogsteeds hard en so toe soos ‘n boek.  Die predikant het nie moed opgegee nie.  Eendag toe bel hierdie goddelose man die predikant:  “Ek wil graag hê jy en jou vrou moet vir my kom kuier.”  Hulle het gegaan.  Hy het sy testament gewysig en gesê hy wil hê dat húlle sy miljoene moet erf.  Twee weke later het hy selfmoord gepleeg.  Toe die polisie op die toneel verskyn, het twee polisiemanne ‘n paar duisend rand gesteel en die storie verdraai.  Die koerant het gesê dat die predikant en sy vrou die man vermoor het.  Maar die Here het gesorg dat die waarheid uitkom.  Die polisiemanne is gevang en die predikant en sy vrou het miljoene geërf.  Hulle het BAIE geld vir sending en die verspreiding van die evangelie gegee.

 

Hierdie storie bevestig net die waarheid van 13:22b:  “…die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre.”  Nóg tekste in die Bybel sê:  “Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm.” (28:8).  “As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder—hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer.” (Job 27:16-17).  “Want aan ‘n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde, maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God.  Ook dit is tevergeefs en ‘n gejaag na wind.” (Prediker 2:26).

 

Geestelike rykdom is ononderhandelbaar:  jy móét dit vir jou kinders nalaat.  Gee vir hulle die Woord van God en die evangelie.  Maak seker dat jy vir hulle ‘n goeie en gesonde kerk nalaat.  Onthou dat geld nie belangriker is as ‘n goeie karakter nie.  Party ouers dink dat hulle vir hul kinders sekuriteit bied in rykdom, beleggings, goeie opvoeding of ‘n helder toekoms.  Hulle spandeer die meeste tyd hieraan en gee baie min aandag om hulle kinders van Jesus en sy Woord te leer.  Jóú heiligheid en vrees vir God is die grootste geskenk wat jy vir jou kinders kan gee:  “In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ‘n sodanige sal daar ‘n toevlug wees…Wie in sy regskapenheid wandel as ‘n regverdige—gelukkig is sy kinders ná hom.” (14:26, 20:7).  Dis nie die wisselkoers of groot beleggings wat hulle sal veilig hou nie, maar “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” (18:10).  “Die vrees van die HERE is tot die lewe” (19:23).  Dís die ware skat en belegging en rykom – om God te ken en Hom te vrees:  “En daar sal bestendigheid van jou tye wees, ‘n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die HERE sal sy skat wees.” (Jesaja 33:6).  Jy hoef nie skelm te wees of onderduims te handel om ekstra geld in te bring om vir jou gesin te sorg nie. As jy so lewe sal God jou nie seën nie.  Wees eerlik, opreg en deursigtig – dán sal die Here jou kinders seën:  “Wie in sy regskapenheid wandel as ‘n regverdige—gelukkig is sy kinders ná hom.” (20:7).  Wandel in die lig:  “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1 Johannes 1:7).

 

‘n Ouer wat God vrees hoef niks anders te vrees nie.  Sy kinders sal veilig wees – veral van God se toorn deur die evangelie wat hy vir hulle geleer het:  “In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ‘n sodanige sal daar ‘n toevlug wees.” (14:26).  Indien ouers vir hulle kinders ‘n voorbeeld en toevlug wil wees, is dit belangrik dat hulle baie tyd by die huis moet spandeer.  Moenie ‘n besigheidspersoon wees wat nooit tuis is nie, gedurig laat werk of vir ure voor die TV sit as jy na werk by die huis kom nie.  Daar bestaan nie iets soos kwaliteit tyd sonder kwantiteit tyd nie.  Dit is beter om elke dag met jou kinders te gesels, in hulle belang te stel en vir hulle die Bybel te leer, as om een keer in twee weke R500 se geskenke vir hulle te koop.  “Soos ‘n voël wat ver van sy nes af rondvlieg, so is ‘n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe.” (27:8).  Die les is duidelik:  wees by die huis.  Moenie dink die gras is groener oorkant die heing, sodat jy wegdwaal nie.  Skape is altyd die veiligste in die kraal.  Hierdie les geld ook op ‘n geestelike vlak.  Jesus verlaat nooit sy bruid, kinders en gesin nie.  Hy is getrou en lojaal.  Moet jy dan ook nie van Hom en jou geestelike gesin (die kerk) af wegdwaal nie.

 

Respek vir bejaarde ouers

In my paar jare van bediening het ek al genoeg ouers gesien wat treur oor hulle volwasse kinders se dwase optrede.  Moenie so ‘n kind wees nie.  Respekteer jou bejaarde ouers.  Moenie wees soos ‘n man wat ingebel het op RSG nie:  “Ek wil vra dat die mense asseblief vir my sal bid.  Ek slaan my ma.”  Moenie wees soos die gevoellose man wat sy bejaarde ouers uit die woonstel agter in sy erf wou uitsit nie.  Onthou eerder dat jou pa aan jou lewe gegee het en jou ma jou in die lewe gebring het (23:22, 25).  Onthou hoe jou ouers opofferingings gemaak het toe jy jonk was.  Dink aan al die lewenslesse wat jy uit hulle monde gehoor het; en wees selfs as ‘n volwassene bereid om van hulle te leer (23:22-23, 31:1).  Moenie met jou bejaarde ouers spot, hulle verwaarloos of hulle vloek nie.  Moenie disrespek betoon, hulle geweld aandoen of hulle wegjaag nie.  In Bybelse tye sou die laasgenoemde veral belangrik wees, omdat families saamgewoon het (dink maar aan Jakob en sy seuns).  Bewys liefde aan jou bejaarde ouers:  bel hulle, bid vir en saam met hulle, besoek hulle, respekteer hulle en sorg vir hulle – veral as jou ma ‘n weduwee is:  “…‘n dwase mens verag sy moeder…Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is ‘n seun wat skande maak en skandelik handel.” (15:20b, 19:26).

 

“Want God het bevel gegee en gesê:  Eer jou vader en moeder; en:  Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe.  Maar julle sê:  Elkeen wat aan vader of moeder sê:  enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is ‘n offergawe—dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie.  So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.” (Matteus 15:4-6).  Met ander woorde, as jy jou familie pligte versuim, omdat jy dinge vir die Here se werk wil doen, sondig jy.  God sal nooit vir jou sê om iets vir Hom te doen wat jou familie sal laat ondergaan nie.  Jesus self het in sy sterwensuur voorsorg getref vir sy weduwee-ma:  “En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder:  Vrou, dáár is u seun!  Daarop sê Hy vir die dissipel:  Dáár is jou moeder!  En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.” (Johannes 19:26-27).

 

As jy wil hê dat jou kinders jou nie weggooi wanneer jy oud word nie, moet jy sorg dat jy hulle reg tug en opvoed wanneer hulle jonk is.  Indien jy toelaat dat hulle disrespekvol is wanneer hulle klein is, sal hulle erger wees wanneer hulle groot is (dalk sal hulle selfs geweldadig wees).  As jy te streng is of hulle mishandel, sal hulle wraak neem wanneer jy oud word en jou skade aandoen (nie dat dit enigsins reg is nie).  Maak hulle reg groot.  Wanneer jy oud is sal hulle jou liefhê en respekteer.  In die woorde van Salomo in Prediker 11:1:  “Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind.”

 

My ma het al dikwels gesê dat sy soos Johannes in 3 Johannes 4 voel:  “Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.”  Deur die Here se genade is al vier my ouers se kinders gered (en al hulle skoonkinders).  Ouers sal bly wees wanneer hulle na jare se harde werk sien hoe hulle kinders wys is en hul lering uit die Skrifte gehoorsaam en toepas:  “‘n Wyse seun verbly sy vader…” (15:20a).  “Die vader van ‘n regverdige juig baie; en as iemand ‘n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom.  Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.” (23:24-25).  Jy moet onder andere nie ‘n ongelowige lewensmaat kies wat die lewe vir jou ouers hel sal maak nie (Genesis 26:34-35, 27:46).  Maak jou bejaarde ouers bly.

 

As jy hierdie verse ignoreer, sodat jy dwaas en rebels is, dan sal jy skande bring op die familienaam:  “Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is ‘n seun wat skande maak en skandelik handel.” (19:26).  Jy sal geen erfenis kry nie.  Een van die betroubare werkers sal die plaas of familie besigheid oorneem:  “‘n Verstandige dienaar sal heers oor ‘n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel.” (17:2, cf. 2 Samuel 16:4, 1 Konings 11:26-38).  In die kultuur waarin Salomo geleef het, was die erfdeel ‘n groot ding.  In ons tyd voel baie kinders ‘n veer vir hulle erfenis of hul ouers se seën.  Maar hulle sal spyt wees as dit te laat is, as hulle op hul oudag besef wat hulle verloor het (soos Esau of soos ouers wat hulle kinders terugsoek jare nádat hulle die kinders opgegee het vir aanneming).

 

Net soos wat jy jou aardse pa moet blymaak, moet jy ook jou Hemelse Vader bly maak.  Moenie dat sý Naam as gevolg van jóú sondige optrede deur die modder gesleep word nie (Romeine 2:24).  Uiteindelik was dit net Jesus wat sy Vader se hart bly gemaak het (Matteus 3:17).  As jy in Christus glo en jou bekeer, sal God jou vergewe, terugneem, en Hom in jou verbly (Lukas 15:11-32).  Jy sal soos die goeie dienskneg wees wat die erfenis verkry, terwyl die skandelike seuns van die koninkryk (rebelse Israel) uitgewerp word:  “Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele.  Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis.  Daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matteus 8:11-12).

Hoekom móét jy jou kind pak gee?

Spanking

13:24 Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.  19:18 Tugtig jou seun, want daar is hoop; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie.  17:6 Kindskinders is ‘n kroon vir grysaards, en vir die kinders is hulle vader ‘n eer.  20:30 Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste.  22:6 Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.  22:15 As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.  23:13 Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. 23:14 Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.  29:15 Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande. 29:17 Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” (Spreuke).

 

Bybelse tug wys liefde (13:24)

Ons almal ken mense wat nie glo in pakslae nie, mense wat die metodes van moderne sielkunde volg.  Ek het onlangs in ‘n populêre Suid-Afrikaanse tydskrif ‘n artikel gelees wat teen lyfstraf is.  Mense wat so glo, is verkeerd.  God se Woord laat nie plek toe vir debat oor die onderwerp nie.  Die Hebreeuse woord vir roede beteken ook stok of staf.  Dit word onder andere gebruik in 2 Samuel 7:14:  “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders.”  Ouers wat nie vir hulle kinders pak gee nie, doen dieselfde skade as ‘n ouer wat sy kind haat:  “Wie sy roede terughou, haat sy seun” (13:24a).  Tug (en dit sluit pakslae in) is ‘n betoning van liefde, omdat die ouer sy kind van die verkeerde pad af wil wegdraai:  “hy wat [sy kind] liefhet, besoek hom met tugtiging.” (13:24b).  Selfs God tugtig ons (dikwels swaarder as enige pakslae):

 

5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek:  My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.  7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?  10 Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. 11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” (Hebreërs 12:5-11).

 

Moenie met God stry nie.  Aanvaar eenvoudig dat sy metode beter en wyser is as die wêreld s’n.

 

Wanneer 13:24 sê:  “besoek hom met tugtiging,” kan die Hebreeus ook vertaal word met:  “tugtig hom vroeg”.  Met ander woorde, reeds wanneer die kind jonk is kan jy begin om hom pak te gee.  Daar is nie ‘n vaste ouderdom nie, maar sodra die kind sy rug teen jou kan styf maak (byvoorbeeld wanneer jy sy doek ruil of ‘n speelding by hom wegvat) kan hy begin pak kry.  Dit mag selfs so vroeg wees as 8-10 maande.  Moenie die kind op sy doek slaan nie.  As hy nie pyn voel nie, help dit nie.  Hy moet genoeg pyn voel om te weet daar sal gevolge wees as hy dit weer doen.  Tog moet jy nie jou kind nie soos ‘n slaaf of ‘n dier mishandel nie (nie dat ons slawe of diere moet mishandel nie, maar ek gebruik dit by wyse van spreke).

 

Bybelse tug red van die dood (19:18, 23:13-14)

‘n Predikant met vyf kinders het my vertel dat een van sy kinders baie moeilik was.  Hulle het haar getrou liefgehad en pak gegee.  “Nou is sy een van my ‘sweetste’ kinders,” het hy gesê.  God se metode van tug gee hoop vir ouers wat ‘n moeilike kind moet grootmaak.  As dit vir jou lyk of pakslae nie werk nie:  volhard en werk vir die langtermyn.  “Tugtig jou seun, want daar is hoop” (19:18a).  Moeie tug terughou deur jou afwesigheid, ‘n onbybelse opinie, of traagheid om pak te gee nie (23:13).  Party mense dink dat pakslae ‘n kind sielkundig sal krenk of fisies sal beskadig.  Die waarheid is dat jy die kind se dood beplan en hom skade aandoen as jy hom níé pak gee nie:  “laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie…Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.  Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” (19:18b, 23:13-14).

 

Bybelse tug maak ‘n indruk (17:6, 22:6)

Natuurlik sluit tugtiging meer in as net pak:  jy leer jou kind ‘n lewe van dissipline.  Jou voorbeeld en opvoeding maak ‘n indruk op die kind.  Soos oumas en oupas trots is op hulle kleinkinders, is jong kinders trots op hulle ouers (17:6).  Hulle na-aap hulle en wil soos hulle ouers wees.  ‘n Tydjie gelede het twee van my kinders ‘n A4 papier geneem, in die helfte gevou, en hulle eie laptop gemaak.  Hulle het langs my kom sit terwyl ek my preke voorberei, en presies gedoen wat ek doen.  Terwyl jy alles in jou kinders se lewens is, moet jy die geleentheid benut om hulle positief te beïnvloed.  Volg Jesus volheid, sodat hulle eintlik vir Christus volg as hulle jóú navolg (1 Korintiërs 11:1).  Onthou dat opvoeding ‘n proses is en tyd neem (22:6, train in die ESV).  Wees daarom geduldig.

 

“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” (22:6).  Dié vers is moeilik om te interpreteer.  Dit kán beteken dat jy die kind moet grootmaak volgens (God se) weg, en as hy eendag oud is sal hy nóg onthou wat reg is (cf. 2 Timoteus 3:15).  Óf dit kan beteken dat ‘n kind op sy oudag nog sal dwaal, omdat jy hom sy sin gegee het en volgens sy eie weg grootmaak het.  ‘n Laaste interpretasie is dat elke kind se aard verskil, en dat jy daarom die kind volgens sý weg moet grootmaak (nie dat jy hom sy sin moet gee nie, maar dat jy in ag moet neem dat party kinders hardkoppiger of sagmoediger is as ander).  Al hierdie interpretasies klink Bybels en daarom sal ek nie swaarde kruis met iemand wat die vers anders as ek interpreteer nie.  Ek dink ons móét onthou dat hierdie vers nie ‘n belofte vir redding is nie.  Moet dan nie teleurgesteld wees as jy jou kind reg grootmaak het, en hy nie gered word nie.  Hierdie vers (soos baie ander in Spreuke) is ‘n algemene reël van hoe dinge in die lewe werk.  Maar daar is uitsonderings.

 

Bybelse tug reinig die hart (20:30, 22:15)

Op ‘n tyd was ons moedeloos met een van ons kinders.  Ons het die kind pak gegee, maar die hardkoppigheid wou nie wyk nie.  “Wat moet ons doen?” het ek vir ‘n ouer predikant gevra.  Sonder om lank te dink het hy geantwoord:  “Slaan die kind harder.”  Ons het sy raad gevolg en binne twee dae was ons probleem opgelos.

 

Die westerse mens sê veels te gou dat pakslae kindermishandeling is.  Moenie toelaat dat die kind se pyn jou hart smelt, sodat jy ophou om pak te gee nie.  ‘n Pakslae dryf die natuurlike dwaasheid (Psalm 51:5) uit ‘n kind se hart uit:  “Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste…As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.” (20:30, 22:15).  Pakslae kan nie ‘n kind van sy sonde red nie, maar dit wys vir die kind hoe sondig sy hart is, en dryf hom na die evangelie toe; na Jesus toe deur wie se wonde en houe daar vir ons genesing gekom het (Jesaja 53:5).  Galasiërs 3:24 illustreer wat ek nou-net gesê het:  “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe”.  As jy jou kind reg wil tug, dan mik jy nie net om sy gedrag te verander nie, maar sy hart.  Wanneer jy jou kind pak gee, moet jy vir hom sy sondige dade én motiewe uitwys, en die hoop van die evangelie met hom deel.

 

Bybelse tug gee wysheid (29:15)

‘n Ma in Australië het by ‘n vriendin gekuier.  Haar kind het op die vriendin se banke gespring.  Die ma het saggies met haar kind gepraat:  “My kind, miskien is dit nie goed om op ander mense se banke te spring nie.  Jy kan kies of jy wil aanhou spring of ophou; jy kan ‘n goeie of ‘n slegte keuse maak.  Wat gaan jy kies?”  Die kind het afgeklim.  Die ma het gesê:  “Goeie keuse.”  Later het die ma vir die kind gevra:  “Wil jy ‘n appel of ‘n piesing hê?  Moet ek dit vir jou in vier of agt stukke sny?  Gaan jy ‘n goeie of ‘n slegte keuse maak?”  Blah blah blah.

 

Klein kinders moenie self groot besluite neem nie.  As jy ‘n kind aan homself oorlaat sal jý eendag die vrot vrugte pluk:  “…‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” (29:15).  “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” (Galasiërs 6:7-8).  Leer jou kind van kleins af dat hy nie selfstandig is nie, en dat hy altyd onder gesag sal wees (al gaan hy nie vir altyd onder jóú gesag wees nie).  Leer vir hom dat dit goed en veilig is om onder gesag te wees, en dat dit sleg is as hy sy eie baas wil wees.  Indien hy nie jou gesag wil aanvaar nie, moet jy hom pak gee en die regte weg leer.  Pakslae en lering moet altyd hand aan hand gaan.  Jy moenie die een sonder die ander gebruik nie:  “Die roede en die bestraffing gee wysheid” (29:15).  Gebruik die Skrif om vir jou kind te wys waar hy verkeerd gegaan het en hoe om dinge reg te stel.  As jy dít doen sal jy nie beskaam word (29:15b) wanneer mense sê:  “Daardie stoute ‘brat’ is húlle kind.” (of erger skandes as hulle ouer is).  En in ‘n kultuur waar jou familie se naam en skaamte iets beteken het (die Joodse kultuur), het dit saakgemaak.

 

Bybelse tug gee rus (29:17)

Dit is absoluut onnodig dat ouers hulle 18 en 20 jarige kinders pak gee.  As jy op ‘n vroeë ouderdom begin om jou kinders pak te gee, dit reg doen en konstant is, sal die taak afhandel wees nog voordat hulle tieners is.  Jy sal nie hoef wakker te lê oor jou tiener of student nie.  Jy sal ‘n geruste hart en vreugde hê oor jou verantwoordelike kind:  “Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” (29:17).

Pasop vir omkoopgeskenke

Bribe

15:27 Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe.  17:8 Kosbare edelgesteentes is die omkoopgeskenk in die oë van sy besitter; oral waar hy heengaan, sal hy slaag. 17:23 Die goddelose neem ‘n omkoopgeskenk aan wat uit die boesem kom om die paaie van die reg te buig.  18:16 Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte en bring hom in die teenwoordigheid van die aansienlikes.  19:6 Baie soek die guns van die edele, en die man van geskenke het ‘n hoop vriende.  21:14 ‘n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring en ‘n geskenk in die skoot die heftige woede.  28:21 Om partydig te wees, is nie goed nie, want ook vir ‘n stuk brood kan ‘n man ‘n oortreding begaan.  29:4 ‘n Koning hou deur reg die land in stand, maar ‘n man wat belastings afpers, verwoes dit.” (Spreuke)

 

Die rede hoekom mense omkoopgeskenke gee en vat

Ons is almal bekend met omkoopgeskenke.  In ons land weet ons hoe regspersone en verkeerspolisie ryk word deur omkoopgeskenke, in plaas van ‘n wel verdiende salaris.  Die Hansie Cronjé saak is die bekendste van sy soort in afgelope jare.  Wat sê die Bybel oor omkopery?  Hoekom doen mense dit?  Hier is vier redes:

 

  1. Mense is gierig.  Hulle sal sondig vir geld (15:27a).  Iemand sal beswaar aanteken:  “As jy my klein salaris verdien het sal jy dit ook doen.”  Toe die Romeinse soldate vir Johannes die Doper gevra het oor hoe hulle hul lewens moet verander, het hy gesê:  “Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle loon.” (Lukas 3:14).  Jesus het gesê:  “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matteus 6:31-33).  Die mens se hart is so gierig dat hy (soos Judas) sy Meester sal verloën vir 30 stukke silwer.  Mense sal die reg verdraai vir ‘n stuk brood:  “…vir ‘n stuk brood kan ‘n man ‘n oortreding begaan.” (28:21).  “En julle ontheilig My by my volk vir ‘n paar hande vol gars en vir ‘n paar stukke brood om siele dood te maak wat nie moes gesterf het nie, en om siele in die lewe te hou wat nie moes geleef het nie, deurdat julle my volk belieg wat na leuens luister.” (Esegiël 13:19).  Daar is mense wat sal trou, omdat die ander persoon geld het.  Party kinders maak vriende vir wat hulle kan kry en nie vir wat hulle kan gee of vir wie die persoon is nie:  “Baie soek die guns van die edele, en die man van geskenke het ‘n hoop vriende.” (19:6).  As die ryk man sy geld verloor dan verloor hy sy vriende.  Party mense maak so met Jesus:  hulle stel nie in Hóm belang nie, maar in wat hulle by Hom kan kry (vergifnis of die hemel).  Ander glo dat Hy hulle gesond of ryk sal maak.  Wanneer hulle dit nie van Hom kry nie, draai hulle hul rug op Hom.  Moenie so wees nie.  Wees lief vir Jesus vir wie Hy is. 

 

  1. Omkoopgeskenke maak deure oop.  ‘n Groot diamant is die sleutel tot die deur van sommige vroue se harte.  So is ‘n omkoopgeskenk:  “Kosbare edelgesteentes is die omkoopgeskenk in die oë van sy besitter; oral waar hy heengaan, sal hy slaag.” (17:8).  In die moderne Engelse idoom:  “Money talks.”  Maar dit is net in die skelm se oë wat die omkoopgeskenk die antwoord is.  Die regverdige sien verder as dit en antwoord soos Petrus wanneer iemand hom probeer omkoop:  “Mag jy en jou vuil omkoopgeld hel toe gaan!” (sien Handelinge 8:18-23).  Partykeer kan geskenke positief gebruik word om deure oop te maak:  “Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte” (18:16.  In 1 Samuel 25:27 het Abigail vir Dawid ‘n geskenk gestuur om te keer dat hy vir Nabal sou doodmaak).  Maar oor die algemeen het mense versteekte motiewe wanneer dit by hierdie saak kom.

 

  1. Mense soek ander se guns.  Party mense sal omkoopgeskenke gee om belangrike mense te ontmoet, sodat hulle kan sê:  “Ek ken vir Theuns Jordaan… Ek het Barak Obama se hand geskud.”  In 18:16 lees ons:  “Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte en bring hom in die teenwoordigheid van die aansienlikes.”  So iemand soek ryk vriende, omdat hy wil hê dat ander hom met ryk mense moet assosieer (19:6). 

 

  1. Mense soek ‘n kits oplossing vir verhoudingsprobleme.  Daar is ‘n plek om blomme te koop vir jou vrou as jy die gebroke verhouding wil herstel:  “‘n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring…” (21:14a).  Maar dit is ‘n fyn lyn.  Ons moenie omkoopgeskenke gee nie (21:14b).  God het ‘n mens geword en aan ons die geskenk van sy lewe gegee om sy toorn tot bedaring te bring (in Engels praat ons van ‘propitiation’).  Ons moet só wees:  gee geskenke en nie omkoopgeskenke nie.

 

Die gevolge vir mense wat omkoopgeskenke gee en vat

Drie gevolge staan uit:

 

  1. In Josua 7:25 het Agan moles oor sy hele huisgesin gebring, omdat hy geldgierig was.  Dit is ten minste een van die gevolge vir mense wat omkoopgeskenke gee en vat:  “Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering” (15:27a).  Jy sal uitgevang word en jou werk verloor, jou reputasie kwyt wees, God se frons oor jou skouer voel, die vertroue van die publiek verloor en ‘n gewete hê wat jou nie met rus laat nie. 

 

  1. Jy stel jou lewe in gevaar.  Moenie jou familie haat nie (15:27a), maar haat omkoopgeskenke sodat jy kan lewe en nie hel toe gaan nie (nie dat dit die gronde vir jou redding is nie, maar eerder die uitvloeisel daarvan):  “hy wat geskenke haat, sal lewe.” (15:27b).  “So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak:  dit ontneem sy besitter die lewe.” (1:19).  “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Timoteus 6:10). 

 

  1. Mense verdraai die gereg.  Vir ‘n paar ekstra rand uit jou baadjie se binnesak [‘’n omkoopgeskenk uit die boesem’, 17:23], is daar altyd iemand wat bereid sal wees om te help dat jou paspoort gou afgehandel word; dat jy jou lisensie lag-lag slaag:  “Die goddelose neem ‘n omkoopgeskenk aan wat uit die boesem kom om die paaie van die reg te buig.” (17:23).  Die polisie los Chinese uit wat ‘n paar rolle R200 note opdok.  Genoeg geld kan dinge laat goed gaan in die hof of sorg dat die leêr met die bewyse ‘verdwyn’.  As jou pa genoeg geld het kan jy óók in die eerste span wees.  Party predikante sal, vir ‘n paar rand in sy rekening, preek wat die ryk familie wil hoor.  Daar is baie leiers in ons land wat graag omkoopgeskenke vat.  Ons word swaar belas met tolgeld en brandstofpryse, en so bring hulle ons land onder:  “‘n Koning hou deur reg die land in stand, maar ‘n man wat belastings afpers, verwoes dit.” (29:4).  Maar dit help nie dat ons soos ongelowigs kla nie (Titus 3:1-2).  Bid vir die regering (1 Timoteus 2:1-2).  Sorg dat jý reg doen, die regering gehoorsaam en jou belasting betaal (Romeine 13:1-7). 

 

“Wees eerlik en gehoorsaam die Bybel se lering oor omkoopgeskenke:  Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie; want die geskenk maak die siendes blind en verdraai die sake van die regverdiges.” (Eksodus 23:8). 

 

“Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het.  Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee.” (Deuteronomium 16:19-20). 

 

“Sekerlik, afpersing maak ‘n wyse dwaas, en ‘n geskenk bederwe die hart.” (Prediker 7:7). 

 

“Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na.  Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.” (Jesaja 1:23). 

 

“Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is, julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort.” (Amos 5:12). 

 

“Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ‘n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld.  Nogtans steun hulle op die HERE en sê:  Is die HERE nie in ons midde nie?  Geen onheil sal ons wedervaar nie!… Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen.  Die vors eis, en die regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en hulle verdraai dit alles.” (Miga 3:11, 7:3). 

 

Gee geskenke om dankie te sê nádat die guns aan jou bewys is – nie vooraf om die guns gedoen te kry nie.  Wees buitendien altyd agterdogtig oor dinge wat in die geheim gedoen word (1 Johannes 1:5-10).

Dink voor jy praat

Think before you speak

13:3 Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang.  15:23 ‘n Man het blydskap in die regte antwoord van sy mond, en hoe goed is ‘n woord op sy tyd!  15:28 Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord, maar die mond van die goddelose laat slegte dinge uitborrel. 17:27 Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ‘n man van verstand. 17:28 Selfs ‘n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.  18:6 Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.  18:7 Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe ‘n strik vir sy lewe.  18:20 Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.  18:21 Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.  20:25 Dit is vir die mens ‘n strik dat hy onbedagsaam sê:  Heilig! om dan eers ná die geloftes te oorweeg.  21:23 Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede.  25:11 Goue appels op versierde silwerborde, so is ‘n woord op sy tyd gespreek.  25:15 Deur lankmoedigheid word ‘n vors oorgehaal, en ‘n sagte tong verbreek die gebeente.  26:4 Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.  26:5 Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.  29:20 Het jy ‘n man gesien wat haastig is in sy woorde?  Vir ‘n dwaas is daar meer hoop as vir hom.” (Spreuke).

 

In hierdie verse gee Salomo vier redes hoekom ‘n mens moet dink voordat jy praat.

 

Jy sal jou lewe bewaar

Simei het vir Dawid gevloek.  Dawid het hom nie doodgemaak nie.  Maar Dawid se seun (Salomo) het.  ‘n Dwaas praat te veel en sê verkeerde of dom dinge.  Met sy groot mond versuur hy verhoudings.  Hy oes wat hy met sy lippe gesaai het.  Hy eet die vrug van sy eie woorde en die effek daarvan is te sterk vir sy eie maag (18:20).  Hy trap in die strik wat hy vir ander gestel het – hy is waarlik soos iemand wat homself in ‘n hoek in verf (18:7).  As gevolg van sy sotlike woorde word hy geslaan of verloor hy selfs sy lewe voor die koning:  “Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang. …Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.  Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe ‘n strik vir sy lewe. …Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet. …Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede. …Het jy ‘n man gesien wat haastig is in sy woorde?  Vir ‘n dwaas is daar meer hoop as vir hom.”  (13:3, 18:6-7, 21, 21:23, 29:20).  Anders gestel:  “…the tail of a dog gives him bread, and his mouth gets him blows.” (Ahikar in Kidner, Proverbs, p.130).

 

Iemand wat haastig ‘n eed aflê sal God se toorn voel (20:25).  Op voorwaarde dat die Here sy vyande oorwin, het Jefta belowe hy sal die eerste ding wat by sy huis uitkom as ‘n brandoffer vir die Here offer.  Toe hy van die oorlog af terugkeer, het sy enigste dogter eerste by die huis uitgestap om haar pa te verwelkom.  Jefta het sy belofte gehou en sy dogter geoffer.  Wat ‘n dwase eed!  Onder sulke omstandighede kan ‘n mens verstaan waarom 20:25 waarsku om nie te haastig ‘n eed af te lê nie. 

 

Bid gereeld Psalm 141:3:  “HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.”  Jou lewe en goeie verhoudings met mense is belangriker as jou opinie.  Leer om jou mond toe te hou.  En bly weg van mense wat te veel praat, want jy sal saam met hulle in die sop beland.  Moenie soos hulle wees nie.  Niemand wil meng met iemand wat te veel praat nie.  Leer jouself en jou kinders wat gebeur met mense wat te veel praat, en vermy hulle.  Jou woorde bring dood of lewe oor jouself.  Dít is wat 18:20-21 beteken:  “Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”  Die vers het niks te doen met die charismatiese teologie wat sê dat ons dood en lewe oor ander mense kan spreek nie.  In 2 Samuel 1:16 het ‘n Amalekiet gelieg oor Saul se dood in die hoop dat Dawid vir hom geld sou gee.  Sy eie mond het die dood oor hom gebring.  Dawid het hom doodgemaak.  Hosea 10:13 praat van mense wat die aaklige vrug van hulle eie leuens moet eet.  Jesus sê:  “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.  Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” (Matteus 12:36-37).  Dít is wat Spreuke 18:21 bedoel met lewe en dood in die mag van die tong.

 

Wanneer 20:25 praat van beloftes, kan ons dit maklik toepas in ons era.  Vandag is daar baie mense wat haastig is om ‘n eed af te lê voor die kansel, en baie kort daarna weer te skei.  ‘n Man wat ek ken was vir vier maande getroud voordat hy geskei het.  Hy was haastig om ‘n eed af te lê.  Ons moet ook nie vir die Here dinge belowe, of sê dat ons dinge in sy diens sal gebruik as Hy ons tog net sal uithelp nie.  Die Skrif sê:  “As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.  Maar as jy nalaat om te belowe, sal dit geen sonde in jou wees nie.  Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die HERE jou God vrywillig beloof het—wat jy met jou mond gespreek het.” (Deuteronomium 23:21-23).

 

En weer:  “Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou ‘n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde.  Daarom moet jou woorde min wees.  Want soos die droom kom deur baie drukte, so die gepraat van die dwaas deur baie woorde.  As jy ‘n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.  Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.  Laat jou mond nie toe om op jou liggaam ‘n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God:  Dit was ‘n vergissing nie.  Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?” (Prediker 5:1-5).  Laat ons eerder doen wat Jakobus 5:12 sê:  “Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ‘n oordeel val nie.”

 

Iemand mag dalk wonder oor die waarheid van al hierdie verse in Spreuke:  “As jy jou lewe bewaar deur stil te bly, waarom het Jesus sy lewe verloor?  Hy het dan stilgebly.”  Ja, Hy het.  Maar dit was om ons ontwil wat Hy sy lewe verloor het.  Onthou tog dat baie van die verse in Spreuke algemene waarhede is – daar is uitsonderings op die reël.  Daar is ook ‘n tyd wanneer ons nie moet stilbly om ons lewens te behou nie, maar dit eerder moet verloor vir die evangelie se onthalwe.

 

Jy sal jou naaste bemoedig

Het dit al met jou gebeur dat jy op presies die regte tyd vir iemand ‘n Bybelvers gesms het?  Of was jy al die ontvanger van so iets?  Sulke woorde is vir jou ore soos soet, kraakvars Golden Delicious appels vir jou smaakorgane is.  Of soos soliede goue appels in ‘n silwer versiering vir die oog is – dit bring blydskap (15:23, 25:11).  As ‘n goeie woord op die regte tyd goed is, bestaan die moontlikheid dat jy ‘n goeie woord op die verkeerde tyd kan spreek.  En dit is altyd sleg.  Leer tog ook uit hierdie verse dat daar nie een regte antwoord vir elke situasie is nie.  Jy moet die Skrif (veral Spreuke), die God van die Bybel en mense goed ken om die regte antwoord op die regte tyd te kan gee.  Jesus was so:  “Die Here HERE het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.” (Jesaja 50:4).  Onthou tog wanneer dit by die waarheid van die Skrif kom, dat jy altyd moet praat – al is dit ook op ‘n tyd wat mense dit nie wil hoor nie.  “Verkondig die Woord; tydig en ontydig” (2 Timoteus 4:2).

 

Jy sal jou hart ontbloot

RSG het ‘n onderhoud gevoer met Jack Parrow.  Iemand het vir hom gevra hoekom hy soveel vloek wanneer hy sing.  Sy antwoord was:  “Ek is nie soos ander sangers nie.  Ek sê wat ek dink.”  Dit is dwaas.  Die Skrif sê dat jy mooi moet dink voordat jy praat.  Mompel saggies die woorde vir jouself voordat jy hulle sê (15:28).  Indien dit moontlik is moet jy vra vir tyd om te dink, te bid, die Skrif te ondersoek en ‘n antwoord te formuleer (skryf as dit sal help).  Dit gebeur ongelukkig dat jy nie altyd lank kan wag om te antwoord nie.  Daarom moet jy vooraf gereed wees om ‘n antwoord te gee vir hulle wat vra oor die hoop wat in jou is (1 Petrus 3:15).

 

Jou woorde wys wat in jou hart is (4:23, Matteus 12:34).  Die goddelose persoon se slegte woorde borrel uit sy hart uit (15:28).  Selfs ‘n dwaas wat stilbly kan misgis word vir ‘n wyse persoon:  “Selfs ‘n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.” (17:28).  “Ag, as julle maar heeltemal sou swyg—dan sou dit vir julle wysheid wees!” (Job 13:5).  Die wyse persoon vertoon nie sy kennis nie, maar hou terug en is kalm:  “Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ‘n man van verstand.” (17:27).  Wat sê jou woorde van jóú hart?  Is jy sleg?  Die verrotte wortel van jou hart kan alleenlik deur die evangelie herstel word.  Eers dan kan jy jou slegte tong hervorm.

 

Iemand het my vriend gekritiseer op sy blog.  Wat moes hy doen?  Moes hy daarop reageer of nie?  ‘n Mens het wysheid en onderskeid nodig om te weet wanneer jy moet reageer en wanneer nie:  “One size does not fit all” (Koptak, Proverbs, p.592).  Partykeer moet jy stilbly, sodat jy nie ook ‘n sot is nie.  In sulke gevalle moet jy nie jou tyd, asem of kosbare wysheid op hierdie persoon mors nie:  “Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.” (26:4).  Jesus sê:  “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.” (Matteus 7:6).  Maar daar is ander kere wat jy die sot moet antwoord, sodat hy nie dink hy’s wys nie.  Jy moet veral teen hom praat wanneer ander mense sy sotheid hoor en daardeur beïnvloed kan word.  Daarom sê 26:5:  “Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.”  Jesus het die dwase Fariseërs geantwoord en hulle monde gesnoer.  Hier is wat gebeur het:

 

“En toe Hy in die tempel gegaan het, kom die owerpriesters en die ouderlinge van die volk na Hom terwyl Hy besig was om te leer, en hulle sê:  Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?  En Jesus antwoord en sê vir hulle:  Ek sal julle ook een ding vra, en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen.  Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense?  En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel—dan sal Hy ons vra:  Waarom het julle hom dan nie geglo nie?  En as ons sê:  Uit mense—dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ‘n profeet.  Toe antwoord hulle Jesus en sê:  Ons weet nie.  Hy sê toe ook vir hulle:  Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” (Matteus 21:23-27).

 

Hoe jy ‘n sot antwoord (of nie antwoord nie) wys ook iets van jou eie hart.  Wees dan versigtig wat jy sê en wat nie.

 

Jy sal die onmoontlike regkry

Jesus het ‘n storie vertel van ‘n weduwee wat aanhoudend vir die regter gevra het om haar saak aan te hoor.  Hy wou nie.  Sy het net aangehou.  Uiteindelik het selfs hierdie slegte regter toegegee en haar gehelp (sien Lukas 18:1-8).  Natuurlik gee die Skrif nie toestemming dat ons mag kerm en kla nie, maar as jy geduldig wag dat jou baas (of wieookal anders) se humeur afkoel en jy sagmoedig praat, kan jy die onmoontlike regkry – ‘n sagte tong kan ‘n been breek (25:15).  Deur net geduldig en sagmoedig te wees met jou woorde, kan jy baie gebroke verhoudings herstel.  So, dink mooi voor jy praat.