Geskenke vir Jesus

Christmas gift

Kerstyd is op ons. Vir die wêreld gaan dit oor geld, geskenke, en lekker kos.  Vir Christene gaan dit oor Jesus wat Homself vir ons gegee het.  Eksodus 30 gee vir ons ‘n paar idees van Kersgeskenke wat ons vir Hom kan gee om dankie te sê.

 

Die wierook altaar en salfolie (v.1-10, 22-38)

Ek is mal oor die reuke en geure van die lente: nat grond as dit reën, bloeisels aan die bome, yesterday-today-and-tomorrow, gesnyde gras, rose in die tuin, vars lug vroeg in die môre, braaivleis in die buurt.  Alles in die skepping leef.  Daar is nuwe lewe in die natuur, en die mense kom uit hulle huise en geniet weer die buitelug.  Net so is die soet geur van wierook (simbolies van gebed) lieflik in God se neus.

 

Altar of insenceMoses moes ‘n wierook altaar van akasiahout maak: 45 x 45 x 90 cm hoog (v.1-2).  Die horings op die vier hoeke moes een wees met die altaar (v.2).  Die altaar moes oorgetrek word met suiwer goud (v.3).  Daar moes ‘n goue rand om die kante wees (v.3).  Die kunstige werk het gewys dat God pragtig is, terwyl die goud sy koningskap, rykdom, en majesteit gewys het.  Altar of insence 2

 

Daar moes twee goue ringe onder die rand wees, op die twee hoeke oorkant mekaar, of dalk twee ringe per kant (v.4, sien twee sketse hierbo). Die ringe was vir die akasiahout pale wat met goud oordek is.  Die Leviete moes die altaar dra, sodat hulle dit nie sou aanraak en sterf nie (v.4, Numeri 4:11, 15).

 

Die ark met die versoendeksel het agter die gordyn gestaan, en die wierook altaar voor die gordyn (v.6). Aäron moes Altar of incense 3eers by die altaar tot God bid, voordat God hom by die ark sou antwoord.  Die wierook altaar moes ook ‘n wolk oor die versoendeksel vorm, sodat die hoëpriester nie sterf nie (Levitikus 16:13).  Aäron het die geurige wierook op die altaar gebrand (v.7).  Hy moes so doen in die oggend as hy die lampies uitgedoof het (v.7), en in die aand as hy die lampies aangesteek het (v.8).  Die gereelde wierook offer moes deur al hulle geslagte gebring word (v.8).

Tabernacle layout

Hulle kon nie wierook sonder ‘n bevel offer, of kole van ‘n ander bron as die koper altaar gebring het nie (v.9, Levitikus 16:12). Toe Nadab en Abihu dit probeer het, het God hulle doodgemaak (Levitikus 10:1-2).  Hulle kon ook geen graan- of drank offer op die wierook altaar offer nie (v.9).  Aäron kon wel een keer per jaar versoening maak deur die bloed van die sonde offer op altaar se horings te smeer (v.10, Levitikus 16:18).  So het hy die altaar vir God geheilig (v.10).

 

By KFC en die Coke fabriek is daar geheime resepte wat nie mag uitlek nie. Baie het al probeer om soortgelyke Cola te maak, maar dit proe nooit regtig soos Coke nie.  Het jy al probeer om KFC met meel, olie, speserye, en broodkrummels by die huis na te maak?  Dit proe nie heeltemal dieselfde nie.  Net so het God ‘n spesiale resep vir die salfolie gehad.  Die volk was verbied om dit na te maak.  Dit was spesiaal, heilig, en een van ‘n soort.

 

Die salfmenger moes die salfolie maak van die duur en skaars speserye wat die volk bygedra het (25:6). Hy moes dit maak van 5.5 kg mirre, 2.5 kg soet kaneel, 2.5 kg kalmoes (‘n geurige riet), 5.5. kg kassie (van Cinnamomum cassia se bas), en 3.5 liter olyf olie (v.23-25). Die olie was heilig en bedoel vir spesiale gebruik.  Dit was simbolies van die Heilige Gees wat hulle vir die taak sou toerus en afsonder (v.25, 30). Moses moes ook die tabernakel, ark, tafel met toonbrode, kandelaar, wierook altaar, koper altaar, koper waskom met sy staander, alle instrumente salf vir spesiale gebruik aan God (v.26-28).  Enigiemand wat hieraan geraak het, sou heilig wees (v.29).  Die punt was dat net die priesters hiermee kon werk.

 

Omdat die olie vir spesiale gebruik was, heilig en een van ‘n soort, moes die volk dit nie as ‘n alledaagse parfuum probeer namaak nie (v.31-32). Iemand wat dit gedoen het, sou van die volk afgesny word (v.33).

 

Die salfmenger moes volgende bestandele vir die wierook gebruik (v.34-35, ‘n gelyke deel van alles):

 

  • Soet speserye.
  • Storaksgom: ‘n rooi-geel boomgom wat uit die bas drup.
  • Naeltjies of onycha: die flap van ‘n sekere slak wat die dop onder toemaak en lekker ruik as jy dit brand.
  • Galbanum: ‘n geel-bruin boomgom.
  • Pure wierook van Boswellia bome. As jy die bas sny, kom daar eers ‘n deursigtige wit gom uit. Daarna kom daar ‘n geelkleurige gom uit.

 

Die salfmenger het ook die wierook met pure sout gemeng, sodat dit gouer kon brand. Die sout sou ook die ander bestandele perseveer, en was ook simbolies van God se verbond (v.35, Levitikus 2:13, Numeri 18:19, 2 Kronieke 13:5).  Die salfmenger moes dan die bestandele tot ‘n fyn poeier maal (v.36).  Aäron moes ‘n deel daarvan voor die ark sit (v.36). Die wierook was heilig (v.36).  Soos met die salfolie, sou mense wat die wierook wou namaak van die volk afgesny word (v.37-38).

 

Wat is die lesse vir ons? Aäron moes die wierook altaar met bloed smeer (v.10).  Die les is dit:  God hoor nie ons gebede omdat ons ernstig, lank, of opreg bid nie.  Hy antwoord nie omdat jy gevas het nie.  Hy hoor jou nie omdat jy ‘n sekere rympie bid, jou woorde reg kies, kniel, huil, of sê ‘in Jesus Naam, Amen’ nie.  Hy hoor jou net omdat jou sonde vergewe is deur Jesus bloed; omdat jy bid op grond van Jesus se kruisdood (v.10).  As jy op enige ander gronde bid, sal God nie jou gebed beantwoord nie (1 Petrus 3:12, Jesaja 59:2, Spreuke 15:8, 29).  Deur Jesus is jou gebede vir God soos wierook – ‘n lieflike en geurige offer (Psalm 141:2, Openbaring 5:8, 8:3-4, Lukas 1:10, Maleagi 1:11, Spreuke 15:8).

 

Ons gebede is heel eerste geurig deur Jesus se bloed. Maar dit is ook geurig deur Jesus, ons Hoëpriester, wat vir ons bid (Romeine 8:34).  Jesus bid nie net in die oggend en aand vir ons nie, maar tree altyd vir ons in (Hebreërs 7:25).  As God ons gebede so geniet, moet ons dit nie versaak nie.  God is gretiger om ons gebede te hoor as wat ons is om dit te bid.  Hy wil hê ons moet bid en gemeenskap met Hom geniet.  Dit is byna soos verliefdes, familie, goeie vriende wat nie kan wag om by mekaar te kuier nie.

 

Omdat God ons gebede geniet, moet ons nie gou wil klaarmaak of net deur ons lysie bid nie. Ons moet rustig wees en tyd in sy teenwoordigheid deurbring.  Bid soveel as wat jy kan.  Begin en eindig jou dag met gebed – bid gedurig (v.7-8, 1 Tessalonisense 5:17).

 

His Name, like sweet perfume shall rise

with every morning sacrifice

 

-Isaac Watts-

 

Moenie sê: ‘Dis net bekende predikers en sendelinge in die geskiedenis wat so kan bid – ‘n gewone Christen soos ek kan nie.’  Ek ken gewone lidmate wat manne en vroue van gebed is.

 

Vir ‘n lieflike geur moet jy ook volgens God se voorskrifte of resep bid (v.9, 34). Bid soos wat daarvan hou.  Bid die Woord.  Bid die Onse Vader.  Moenie bid soos wat dit verkies nie (deur wierook en kerse te brand, in tale te bid, of soos ‘n Buddhis jou verstand leeg te maak).  Jou gebede is ook geurig as jy nie in ongeloof twyfel nie, maar glo God wil en kan jou gebed antwoord.  Glo sy beloftes en verwag ‘n antwoord (v.36).

 

Die altaar se horings was simbolies van God se krag (v.2, 1 Konings 22:11) om gebede te beantwoord. Spurgeon het gesê:  ‘Prayer is touching omnipotence.’ (Om te bid is om aan God se almag te raak).  God is so magtig, dat Hy miljoene se gebede gelyk kan hoor, dat Hy enige gebed kan beantwoord (Jeremia 32:17, 27, Efesiërs 3:20, Lukas 1:37, Matteus 19:26, Numeri 11:23).

 

Ons moet altyd geurige gebede aan God offer. Ons moet ook ons kinders so leer (v.8).  Ons gebede sal en moet vir ewig aanhou, omdat Jesus dit werd is (v.8, Psalm 72:15).

 

To Him shall endless prayer be made,

and endless praises crown his head.

 

-Isaac Watts-

 

Vir God is dit nie net ‘n geurige offer dat jy bid nie, maar ook wat jy bid.  Moenie net bid vir tydelike of aardse dinge nie, maar vir die Gees en vir geestelike dinge soos Paulus (v.23-25, Lukas 11:13, Efesiërs 1:17, 3:16).  Jy sal verbaas wees hoe jy geestelik groei, heilig word, God beter ken, en die vrug van die Gees dra as jy só begin bid.

 

Bid ook dat Jesus sy Gees in ware herlewing op die kerk en ons land sal uitstort. Vir God is dit ‘n lieflike gebed wat Hy in sý goeie tyd sal beantwoord.  Jeremiah Lanphier was besorg oor die toestand van die Amerikaanse kerk in die 1800’s.  Op 23 September 1857 het hy ‘n weeklikse middag gebed begin by ‘n kerk in Manhattan.  Die eerste week het daar net 6 mense gekom.  Die tweede week was daar 20, en die derde week 40.  In Oktober het mense daagliks saamgebid.  Teen die nuwe jaar het hulle ‘n ekstra kamer gekort, en in Februarie drie kamers.  In Maart 1858 was daar 3000 wat saamgebid het, en teen April was daar oral mense wat saamgebid het.  Mense het begin bid vir herlewing.  God het hulle gebede verhoor en ‘n magtige herlewing gestuur wat oor die land gestrek het.[1]  ‘n Jaar later het die herlewing ‘n effek gehad in Brittanje.

 

Laat ons aanhou om die geurige offer van gebed vir God te bring, want ‘God is most glorified in us when we are most satisfied in Him.’ (John Piper).

 

Die sensus belasting en koper waskom (v.11-21)

Christo is ‘n brandarm burger wat hoog-verraad teen die koning gepleeg het. By sy verhoor sê die koning dat Christo die doodstraf moet kry.  Christo smeek vir sy lewe en belowe om R35 vir die koning te gee.  Sal die koning dit aanvaar?  Natuurlik nie.  Hoekom vra God 5.5. gram silwer (R35) as ‘n losprys, as Hy al die rykdom in die wêreld besit (Haggai 2:8)?  Die silwer in v.11-16 is ‘n prentjie van iets veel groter.

 

By die sensus moes elkeen ‘n losprys vir sy lewe gee, sodat God die volk nie met ‘n plaag sou uitwis nie (v.11-12, 2 Samuel 24). Die losprys was ‘n silwer muntstuk wat 5.5 gram geweeg het (v.13, vgl. Matteus 17:24-27).  Almal wat 20 jaar en ouer was moes die losprys gee (v.14, Numeri 1:3).  Kinders kon nie tot die land se ekonomie en veiligheid bydra nie.  Die offer is dalk gegee sodat God hulle teen hulle vyande sou beskerm.  Die geld is ook aangewend om die tabernakel te bou en instand te hou (v.16).  Die sig van silwer in die tabernakel sou die volk heriner dat hulle sondaars is wat versoening verkry het (v.16).  Die ryk en die arm persoon moes ewe veel gee, sodat hulle kon besef God trek niemand voor nie (v.15).

 

Dink reg oor die geld en gawes wat jy vir God gee. Moenie dink jy kan daardeur iets tot jou redding bydra, of God se guns wen sodat Hy jou finansieel sal seën, jou probleme oplos, jou gebede verhoor, of jou iets skuld nie (Romeine 11:35).  Maak eerder jou hand oop en ontvang die gratis gawe van die lewe deur Jesus wat jou met sy kosbare bloed gekoop het, en nie met goud of silwer nie (Psalm 49:8, 1 Petrus 1:18-19).  Jesus het betaal vir ‘n menigte wat nie getel kan word in ‘n sensus nie (Openbaring 7:9).  Gee dan jou geld en gawes uit liefde en dank, want God het die blymoedige gewer lief (2 Korintiërs 9:7).

 

By hospitale moet jy jou hande was voor en na jy die pasiënt sien, sodat jy nie kieme oordra of kry nie. In v.17-21 moes die priesters hulle hande en voete was, sodat hulle geestelik (nie net hiegiënies nie) rein kon wees.

Bronze basin

Moses moes die koper waskom met sy staander maak, sodat die priesters daarin kon was (v.17-18). Die staander of voetstuk het dalk ook water in gehad, sodat hulle makliker hulle voete kon was (sien sketse hierbo).  Die waskom sou tussen die koper altaar en tabernakel staan (skets onder).  Dit was daar sodat die priesters hulle bebloede hande en voete kon was, nadat hulle die offers gebring het (v.18-19).  Hulle moes ook was, sodat hulle rein kon wees voordat hulle in die tabernakel gedien, of ‘n voedsel offer op die altaar gebring het (v.20).  Hulle en hulle nageslag moes was, sodat hulle nie sou sterf nie (v.21).

Bronze basin in tabernacle

Gee jouself as ‘n rein offer aan God (Romeine 12:1). Word eers deur geloof gered by die altaar van die kruis (v.18).  Was dan gereeld in die koper waskom van die Woord en gebed (v.18-19, 1 Johannes 1:9, Efesiërs 5:26, Johannes 13:8-10, 15:3).  Was jouself veral voor die erediens en voor jy nagmaal gebruik (v.20), want net die rein persoon mag voor God staan (Psalm 15).

 

My suster-hulle het hierdie week by ons gekuier. Ons het oor verjaarsdae gepraat, en sy het gevra:  ‘Wat is die beste geskenk wat jy nog ooit gekry het?’  Wat sou Jesus op hierdie vraag geantwoord het?  Ek glo Eksodus 30 help dat jy ten minste weet wat party van sy gunsteling geskenke is.  Mag ons nie net weet wat hierdie geskenke is nie, maar Hom so liefhê dat ons dit vir Hom gee ook.

[1] Iain Murray, Revival and Revivalism, pp.342-345

Advertisements

’n Spieëlbeeld van Jesus

Priest garments

‘n Tydjie terug het ek ‘n video gesien van mense wat ‘n spieël gemonteer het in ‘n reënwoud in Afrika. Luiperds het gegrom, mannetjie gorillas het gestorm, chimpanzees was nuuskierig, ape het geskrik. Die spieël was ‘n presiese beeld van die dier wat homself daarin gesien het, en tog was dit nie die regte dier nie. So was die priesters in Eksodus 28 maar net ‘n spieëlbeeld van Jesus. , en nie hulle nie, is waaroor dit regtig gaan.

 

Die priesters en hulle klere (v.1-5)

Het jy klere in jou kas wat jy bêre vir spesiale geleenthede? Dalk vir ‘n troue, ‘n formele dinee, kerk, of ‘n grade plegtigheid? Hierdie klere is ‘heilig’ en word vir spesiale gebruik afgesonder. So was dit met die priesters se klere.

 

Moses moes vir Aäron en sy vier seuns nader bring om priesters te wees (v.1). Nadab en Abihu is dood in Levitikus 10. Eliasar het hoëpriester geword in sy pa se plek (Deuteronomium 10:6). Net Aäron se seuns kon priesters wees. Enige ander persoon wat dié amp wou vul is doodgemaak (Numeri 18:7).

 

Daar moes spesiale en heilige klere gemaak word vir Aäron (v.2). Net hý kon hierdie klere dra. Sy klere moes God se heerlikheid en prag weerspieël (v.2). Die kunstigste en vaardigste mense moes dit maak, sodat dit sou uitstaan bo alle ander klere onder die volk (v.3). Gód het hierdie mense vaardig gemaak (v.3). Hulle moes die klere maak om Aäron as hoëpriester af te sonder (v.3).

 

Daar was ses stukke klere: ‘n borstas, skouerkleed, mantel, geweefde kleed, tulband, en gordel (v.4). Die klere was heilig en net bedoel vir priesterlike take (v.4). Hulle het nie skoene aangehad nie, omdat hulle op heilige grond gestaan het (3:5). Vir sy klere moes die volk blou, pers, en rooistof, goud, en fyn linne bydra (v.5). Hierdie edelmetaal en kleure het God se Koningskap en Majesteit weerspieël.

 

Die skouerkleed (v.6-14)

Priest ephodToe ek op laerskool was, was ek in die padpatrollie. Ons het ‘n helder oranje beffie gedra. Dit was soos ‘n frokkie of moulose hemp wat jy los oor jou kop trek. ‘n Mens het dit met toutjies aan die kante vasgemaak. Die hoëpriester se skouerkleed was byna dieselfde patroon.

 

Die skouerkleed is gemaak van blou, pers, en rooistof, en fyn dubbeldraad linne. Daar is goud ingeborduur (v.6, 39:3). Die skouerbande is bo-op die skouers aanmekaar vasgeheg (v.7). Om die middel was daar ‘n gordel wat aan die skouerkleed vas was (v.8). Die gordel van was van goud, blou, pers, en rooistof, en fyn dubbeldraad linne (v.8).

 

Daar was twee oniksstene op die skouerkleed (v.9, 12). Die name van Israel se twaalf Priest onyx stones on shoulderseuns is in orde van geboorte daarop gegraveer, ses name op elke steen (v.9-10). Die graveerwerk moes kunstig gedoen word soos op ‘n seëlring (v.11). Die stene is in goud gemonteer (v.11, soos wat ons ‘n diamant in ‘n ring monteer, sodat dit nie uitval nie). Die stene het gedien as ‘n herinnering van die volk. Dit was simbolies dat Aäron deur gebed die volk se laste op sy skouers dra (v.12, 1 Samuel 12:23). Daar was twee goue kettings (soos ‘n tou gedraai) vas aan die monterings (v.13-14). Ek sal later wys hoekom.

 

Die borstas (v.15-30)

Die Verenigde Koninkryk se koninklike kroon is gemaak van goud. In die kroon is 2868 diamante, 273 pêrels, 17 saffiere, 11 smaragstene, 5 robyne. Die goud en baie edelstene dra ‘n boodskap van die rykdom van die Briste troon.

 

Paulus praat gereeld van God se heerlike en oneindige rykdom. Aäron se borstas illustreer hierdie rykdom; ‘n rykdom wat veel meer werd is as Eksodus 28 se goud en edelstene.

 

Die borstas was onder andere sodat die volk God se wil kon ken (v.15, ek sal later verduidelik). Dit moes kunstig gemaak word van blou, pers, en rooistof, en fyn dubbeldraad linne (v.15). Die materiaal moes dubbel gevou word, sodat dit 22 x 22 cm was (v.16). Op die borstas moes daar vier rye edelstene wees: drie stene in elke ry (v.17). Die presiese vertaling van die stene is nie duidelik nie. Ek volg die OAV se beskrywing.

 

In die eerste ry (v.17) was daar ‘n karneool, topaas, en smarag. ‘n Karneool is die kleur van ‘n rooi son. Topaas kom voor in ‘n wye verskeidenheid van kleure. ‘n Smarag is groen.

Gemstones agateIn die tweede ry (v.18) was daar ‘n karbonkel, saffier, en jaspis (ESV: diamond). ‘n Karbonkel is diep rooi. ‘n Saffier is donker blou. ‘n Jaspis is ‘n rooi-oranje steen. In die derde ry (v.19) was daar ‘n hiasint, agaat, en ametis. ‘n Hiasint kom voor in verskeie kleure; van vaal groen tot pers-rooi. ‘n Agaat kom ook voor in verskeie kleure en het strepe of lae (sien foto). ‘n Ametis is pers. In die vierde ry (v.20) was daar ‘n chrisoliet, oniks, en sardoniks. ‘n Chrisoliet is lig, vaal, of lemmetjie groen. Oniksstene kom voor in baie kleure (v.9). Dit het strepe op soos die halfmaan op jou nael. ‘n Sardoniks kom ook voor in baie kleure en het wit strepe op.Priest breastplate

 

Die stene moes in goud gemonteer word (v.20). Een van die stamme se name moes op elke steen gegraveer word (v.21). Aäron moes die volk in gebed op sy hart dra (v.29). Daar moes vier goue ringe op die borstas se vier hoeke kom. Deur die boonste ringe moes daar goue kettings kom wat aan die skouerstene vas was (v.22-25). Deur die onderste ringe moes daar blou linte kom om die borstas aan die gordel vas te bind (v.26-28, 39:20).

Priest breastplate 2

Priest Urim and ThummimDie borstas is dubbel gevou, sodat die Urim en Tummim (‘n wit en swart klippie?) daarin kon lê (v.30). God het die Urim en Tummim gegee, sodat die volk sy wil kon ken (1 Samuel 14:41, 28:6, Esra 2:63, Nehemia 7:65, Numeri 27:21, Spreuke 16:33). As die priester ‘n wit klippie uitgehaal het, het dit een ding beteken. As hy ‘n swart klippie uitgehaal het, het dit iets anders beteken (dalk ja of nee?).

 

Die kleed (v.31-35)

Het jy al in films gesien hoe die koning se dienaar in die voorhof staan, en die koms van rykes aankondig? Die persoon kan nie net in die koning se troonkamer inkom nie. Die dienaar moet eers sê: ‘Sy edelagbare, die Hertog van Cologne… Sy Hoogheid, die Prins van Oostenryk… ens.’

 

So was dit ook in die Midde-Ooste. Jy kon nie net in die koning se troonkamer instap nie. Jou koms moes aangekondig word. Dit was die punt van die goue klokkies onderaan Aäron se blou kleed.

 

Priest garmentsOnder die skouerkleed moes hy ‘n kleed of rok van blou materiaal dra (v.31). Blou is weereens ‘n koninklike kleur. Daar was ‘n opening vir sy kop, en soom om die opening sodat dit nie maklik sou skeur nie (v.32). Daar was klein granate van blou, pers, en rooistof onderaan die rok (v.33). Die granate het hulle seker daaraan herinner dat die Beloofde Land vrugbaar is (Numeri 13:23). Daar was ‘n goue klokkie tussen elke granaat. Dus was daar ‘n klokkie, granaat, klokkie, granaat reg rondom die onderste soom (v.33-34). Die klokkies was nodig, sodat die volk kon hoor as Aäron in die Heiligdom ingaan; sodat hulle kon hoor of God hom en die offer aanvaar het, en of Hy hom doodgemaak het. Dit was ook nodig om sy koms na die Koning troonkamer toe aan te kondig (v.35).

Priest pomegranates and bells

Die tulband (v.36-38)

Op hoërskool was ek in die kadetorkes. Die tamboermajoor het nie dieselfde beret as die res gehad nie. Sy hoed het anders gelyk. So was dit met die hoëpriester in die Ou Testament.

Priest Golden plate and turban

Daar moes ‘n plaatjie wees van suiwer goud met graveerwerk op: ‘Heilig aan die Here’ (v.36). Die plaatjie moes met ‘n blou lint voor aan die tulband vasgebind word (v.37). Die graveerwerk op die hoëpriester se kop het gewys dat hy namens die volk as hulle heilige verteenwoordiger staan. Deur hom het God die volk se gawes as heilig aanvaar (v.38).

 

Verskeie kledingstukke (v.39-43)

Priest garmentsDeesdae is daar ‘n tendens om trourokke te dra wat nie wit is nie. Ek was by ‘n troue waar diePriest white clothes bruid se rok wynrooi was. Dit is asof mense nie weet hoekom die bruid ‘n wit rok dra nie: dis om te wys sy is rein. So was dit met die priesters se wit klere.

 

Onder die blou kleed moes daar ‘n geweefde wit kleed van fyn linne wees (v.39, skets links). Daar was ook ‘n wit tulband van fyn linne (v.39). Daar was ‘n gordel om die blou kleed, en ‘n gordel onder die blou kleed om die wit een (v.39, 8, Levitikus 8:7). Aäron se seuns het wit rokke en hoedjies van fyn linne gehad (v.40, 39:27-29, skets regs). Hulle gordels was van blou, pers, en rooistof met borduurwerk op (39:29).

 

Die wit klere het gewys dat hulle rein is. Moses moes hulle aantrek, salf, aanstel, en as priesters afsonder (v.41). Hulle het linne onderklere gedra (soos ‘n ‘boxer short’). Die linne sou gekeer het dat hulle sweet (v.42, Esegiël 44:17-18). Die onderklere het verseker dat hulle nie naak aanbid soos party heidene nie (v.42, 20:26). As hulle nié die onderklere gedra het nie, sou hulle sterf. Dit wys vir ons dat God baie ernstig is oor sy heiligheid (v.43). Hierdie reël het nie net vir hulle gegeld nie, maar ook vir hulle nageslag (v.43).

 

Wat is die les uit Eksodus 28? Ons moet Jesus raaksien in die Ou Testament. Voordat ek vir jou verduidelik hoe, gaan ek vir jou sê hoekom. Party mense (soos party van die vertalers van die nuwe Afrikaanse Bybel, my Ou Testament dosent op kollege, en liberale teoloë) sal sê dat Jesus nie in die Ou Testament is nie. Ander dink Hy is daar, maar nie oral nie.

 

As jy Hom gedurig in die Skrif sien, sal jy meer soos Hy word (2 Korintiërs 3:18). Jy sal gelukkig wees en jou depressie oorkom as jy Hom meer sien (Lukas 24:27, 32). Die Heilige Gees en die Vader sal jou seën as jy Hom soek (Johannes 16:14, 14:21, 23). As jy Hom meer sien sal jy groei en nie val vir vals lering nie (2 Petrus 3:18, 17). As jy Hom sien sal jy sonde meer haat. Hoe meer jy Hom sien, hoe liewer sal jy Hom kry, sodat jy Hom nóg meer wil sien.

 

Hoe soek jy Hom in die Ou Testament? Jy moet gered wees – anders sal jy Hom nie sien nie (Johannes 5:39, 1 Korintiërs 2:14, 2 Korintiërs 3:14-18, 4:4, 6). Bid vir oop oë (Psalm 119:18). Oordink die verse en lees eerder stadig en noukeurig as wat jy te vinnig lees. Vra hoe ‘n spesifieke teks van Jesus se lieflike Persoon en sy verlossingswerk praat. Moenie vir Jesus in elke slingervel en spioen sien nie. Moenie die teks vergeestelik en sê Ragab se rooi tou is die kruis nie. Sien vir Jesus waar die Nuwe Testament ‘n duidelike verband wys met ‘n spesifieke Ou Testament teks. Kry vir jou ‘n Bybel met kruisverwysings in. Lees Charles Spurgeon se preke (ongelukkig is dit so dat Spurgeon soms die Ou Testament vergeestelik).

 

Kom ek wys vir jou hoe ons Hom in Eksodus 28 raaksien.

 

  • Volgens Hebreërs is Jesus ons Hoëpriester.
  • Om te wys dat Hy rein is (Hebreërs 7:26), dra Jesus heilige, rein, wit klere (v.2, 39, Openbaring 1:13).
  • Hy dra ons laste op sy skouers in gebed; Hy hou ons in sy hart (Johannes 17, Romeine 8:34, Hebreërs 7:25, vgl. Hooglied 8:6).
  • Hy graveer nie net ons name op ‘n steen nie, maar in sy handpalms (v.11, 21, Jesaja 49:16).
  • Hy bou vir ons ‘n stad met twaalf edelstene in die fondasie (Openbaring 21:14, 19-20).
  • Soos met die Urim en Tummim, leer Jesus deur die Skrifte vir ons God se wil (Hebreërs 1:1, Psalm 119:105, Romeine 12:2).
  • Soos die hoëpriester se blou kleed, is Jesus se klere nie geskeur nie (v.32, Johannes 19:23).
  • Hy dra ‘n goue kroon (v.36, 39:30, Openbaring 14:14).
  • Hy is heilig aan die Here (v.36, Johannes 6:69, ESV).
  • Hy dra ons skuld sodat God ons offers van geld, gebede, en lofprysing aanneem (v.38).
  • Die Vader het Hom ‘n Priester gemaak (v.41, Hebreërs 5:4-5).
  • Hy maak ons priesters wat geestelike offers bring (1 Petrus 2:9, 5, Openbaring 1:6, 5:10).
  • Hy gee vir ons heilige, rein, en wit klere (Openbaring 7:9, 19:8, 3:4-5).
  • In Hom kan ons deur gebed mekaar se laste op ons skouers dra, en mekaar in ons harte hou.
  • Hy maak ons heilig aan die Here (v.36, Openbaring 22:4).

 

Die man wat my kar regmaak het ‘n klein ronde spieëltjie op ‘n lang stuk metaal. Daarmee kan hy soos ‘n tandarts op plekke sien waar jy nie kan nie. Net so kan jy Jesus se spieëlbeeld oral in die Ou Testament sien: in die skepping, in die sondeval, in God se voorsienigheid in Rut, in die Ou Testament konings, in die lofprysing van die Psalms, in die hoë pieke van Jesaja se profesieë, in die wysheid van Spreuke, in die liefde van Hooglied, in die lyding van Job, in die offers van Levitikus, in die Israeliete se uittog in Eksodus, in die nuwe tempel van Esegiël, ens. Hy is orals, jy kan Hom nie miskyk nie.

’n Illustrasie van God se heiligheid

Lamb on red cloth

Dalk is hierdie nie ‘n preek wat jy wil hoor of lees nie. ‘Ek soek iets prakties wat my in my omstandighede kan help,’ sê jy. Niks is meer prakties as God nie: sy Wese, Persoon en karakter.

 

John Piper het eenkeer uit Jesaja 6:1-8 oor God se heiligheid gepreek. Na die preek het ‘n man na hom toe gekom. Hy en sy vrou het daardie week uitgevind dat ‘n familielid hulle dogter molesteer. Volgens die man was ‘n preek oor God se heiligheid net wat hulle nodig gehad het, omdat dit dinge vir hulle in perspektief gesit het. Ek bid dat hierdie preek uit Eksodus 27 dieselfde sal doen vir almal wat dit hoor of lees.

 

Die koper altaar (v.1-8)

Alex is ‘n motorwerktuigkundige; ‘n mechanic. As hy onder die karre lê word sy hande, klere, en gesig vuil. Op ‘n dag nooi die koning van Swede hom om saam met ‘n paar adelikes die prinses se verjaarsdag bal by te woon. Alex weet instinktief hy moet sy naels skrop, gesig was, stort, spuit, skeer, hare kam, tande borsel, en skoon aantrek as hy voor die koning wil staan.

 

So is dit met God: om voor Hom te staan moet jy innerlik rein wees (Psalm 24:3-4). Dit is die les van die koper altaar (v.1-8): voordat jy tot God kan nader, moet jou sonde vergewe wees.

 

Bronze altarWat is die eerste ding wat jy sien as jy in die tabernakel se voorhof instap? Die koper altaar. Hoekom? Dit wys vir jou dat niemand sonder ‘n offer na God toe kan kom nie. Die altaar moes van akasiahout gemaak word. Dit was 2.25 x 2.25 x 1.35 m hoog (v.1). Op elke hoek was daar ‘n horing (v.2). Die horing was ‘n teken van God se mag om sonde te vergewe en te red van die dood (vgl. 1 Konings 1:50, hoe weerloos is ‘n renoster nie sonder sy horing nie?). Die priester het dus bloed op die horings gesmeer (Levitikus 4:7). Die dooie dier is ook aan die horings vasgebind (Psalm 118:27).

 

Bronze altar 3Die altaar moes met koper oordek word (v.2). Daar was ook koper potte om die as op te vang, koper grawe op die as op te skraap of kole te skep, koper bakke om die bloed op te vang sodat die priester dit aan die voet van die altaar kon gooi, koper vurke om die vleis rond te skuif en af te haal (1 Samuel 2:13-14), ‘n koper vuurpan om kole na die wierook altaar toe te dra (v.3, Levitikus 16:12-13). Alles buite die tabernakel s van koper gemaak, en alles binne-in van goud. Dit is ‘n skadubeeld van Jesus wat beide God en mens is: uiterlik onaantrelik, maar innerlik volmaak.

 

Bronze altar 2Aan die kant van die altaar (halfpad tussen die bo- en onderkant) moes ‘n strook van koper traliewerk wees. Dit het soos ‘n net gelyk waardeur wind kon waai, sodat die kole suurstof kon kry (v.4, sien eerste skets hierbo). Party dink die traliewerk verwys na ‘n rooster wat in die altaar moes insak tot halfpad na onder (skets). Maar as dit so was, sou die vuur die koper gesmelt en die hout kante gebrand het. Daarom is die heel boonste skets meer akkuraat, omdat die rooster, traliewerk, en horings van soliede koper was.

 

Daar moes vier koper ringe aan die traliewerk se vier hoeke wees (v.5, heel boonste skets). Die akasiahout pale is met koper oordek en moes deur die ringe gesteek word, sodat die Leviete dit kon dra en nie met hulle sonde-besmette hande daaraan geraak het nie: God is heilig (v.6-7, Numeri 4:13-15). Moses het alles presies gemaak soos wat God op die berg vir Hom gewys het (v.8). God se spesifieke instruksies wys weer vir ons dat Hy heilig is.

 

Die voorhof (v.9-19)

In 1993 was ons vir ‘n maand in Kaapstad. Naby Bloubergstrand is CALTEX se raffinadery met hoë heinings, wagtorings met dik staal en koeëlvaste glas, wagte in die nag, beton mure, en lemmetjies draad. Ek het geweet wat dit beteken: ‘Chemakalieë is gevaarlik en waardevol – moenie inkom nie!’ Net so het die tabernakel se heining gewys dat God heilig en gevaarlik is. Die volk kon nie nader kom nie.

Tabernacle court

Tabernacle silver filletsOm die tabernakel se voorhof was daar ‘n heining van fyn linne. Dit was 45 x 22.5 m (v.9, 11-13). Per lengte was daar was twintig koper pilare met twintig koper voetstukke. Bo-op elke pilaar was daar ‘n silwer rand met ‘n silwer ring vir die tentkoorde (skets). Daar was ook silwer gordynstokke tussen die pilare (v.10-11).

 

Tabernacle court entranceIn die breedte moes die pilare dieselfde lyk. Daar was tien pilare agter en tien voor (v.12). Voor was daar twee heinings van fyn linne aan die kante (v.14-15, 6.75 x 6.75 m). In die middel was daar 9 m oop vir ‘n gordyn van pers, blou, rooistof met fyn borduurwerk op (v.16). Dit wys vir ons dat daar net een weg na God toe is (Johannes 14:6).

 

Pillar 5 cubits highAlles moes dus van koper en silwer gemaak word. Die voorhof was 1012.5 m² x 2.25 m hoog (v.17-18). Die heining se hoogte sou keer dat die volk kon insien en na die heilige God toe kon kom (Numeri 3:10). Die gereedskap en penne vir die voorhof en tabernakel was van koper gemaak (v.19). Dit was nou wel nie van goud nie, maar tog was dit waardevol. Ons weet mos hoe diewe in Suid-Afrika koper steel.

 

Die olie (v.20-21)

Ek en my vrou kyk van tyd tot tyd dokumentêre op YouTube. Ons het eendag gekyk hoe hulle die vorm-sjokolades maak wat jy gewoonlik vir geskenke koop. Alles word met die hand gemaak, en daarom is dit so duur. Tyd en moeite maak dat hierdie sjokolade duurder is as massa produksie sjokolades wat met masjiene gemaak word. Vir dieselfde rede is olyfolie (selfs in Moses se tyd) duurder as ander olies.

 

Moses moes vir die volk sê om geparste rou olyfolie te bring (v.20, ‘virgin oil’). Die olie was gemaak van onryp olywe wat fyn gestamp is. Die pap moes is in ‘n lap gesit, sodat die olie onder kon uitdrup. Die moes is ook soms in warm water gesit en met die hand gedruk. Die olielaag wat dan bo-op die water gedryf het, is versigtig afgeskep. Hierdie olie was die duurste en suiwerste olie beskikbaar.[1] Die suiwer olyfolie sou byna geen rook gemaak het nie. Die olie is gebruik, sodat die kandelaar die hele nag deur kon brand (v.21, Levitikus 24:1-4, 1 Samuel 3:3).

 

Watse lesse is daar vir ons? Reageer op God se heiligheid. Voor jy kan reageer moet jy dit verstaan. ‘God is heilig’ beteken Hy is uniek, gans-anders, een van ‘n soort, in ‘n klas van sy eie, en verhewe bo die skepping. Die Skrif sê:

 

  • “O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (15:11).
  • “By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?… By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.” (Jesaja 40:18, 25).
  • “Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge” (Psalm 89:7).

 

God se heiligheid beteken ook Hy is rein en moreel volmaak. Die suiwer olie is ‘n illustrasie hiervan, asook die lig wat in die tabernakel gebrand het (v.20-21). God is lig en in Hom is geen duisternis nie (1 Johannes 1:5). God is volmaak en sy oë is so rein dat Hy nie sonde kan aanskou nie (Matteus 5:48, Habakkuk 1:13). Hebreërs 7:26 sê van Jesus: “Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het”.

 

God sal nie sonde in sy heilige teenwoordigheid toelaat nie. Die heining om die tabernakel se voorhof wys dit (v.9-19). Psalm 1:5 sê: “Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie.” En Psalm 5:5: “Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.” Die Hebreër-skrywer sê: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Hebreërs 12:14). Johannes skryf: “En daarin [in die nuwe Jerusalem] sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie” (Openbaring 21:27).

 

God haat die sonde in jou wese, hart, motiewe, begeertes, wil, woorde, denke, en dade. Jy is na God se beeld gemaak. As jy sonde doen lieg jy oor wie Hy is. Om sy heilige karakter te beskerm straf Hy sonde met die dood. Daarom was daar ‘n altaar tussen die priester en die tabernakel: ‘n sondelose dier moes in die sondaar se plek sterf.

 

Geen dier kon sonde wegvat nie, maar het heengewys na die sondelose en volmaakte Lam van God wat in ons plek gesterf het om ons sonde weg te vat (Hebreërs 10:1-4, Johannes 1:29, Jesaja 53:4-6). In sy kruisdood het Jesus die Ou Testament priester, altaar, en offer vervul (Hebreërs 13:10, 10:12, 21). Die altaar van sy kruis staan tussen ons en God, sodat Hy die sonde wat tussen ons en God staan kan wegvat. Hy het die heining wat om die tabernakel was (Jesaja 59:2) verwyder. Nou kan sondaars deur geloof en bekering vrylik na die heilige God toe kom (Hebreërs 10:22).

 

Was jy al by die altaar van sy kruis? Is jou sondes vergewe?

 

[1] Dink jy jy is ‘okay’ en kort nie die altaar nie? Toe Jesus op aarde was het Hy harder dinge te sê gehad vir die selfregverdige en hoogmoedige Fariseërs as vir prostitute. As jy deur jou werke hemel toe wil gaan, vereis God dat jy die wet perfek moet gehoorsaam – anders gaan jy hel toe (Galasiërs 3:10).

 

[2] Is jy soos die gemiddelde Afrikaner wat dink Jesus het vir jou sonde gesterf, maar jy leef nog daarin? Jy sal dubbel gestraf word, omdat jy ‘n bespotting maak van die kruis. Jy verag die enigste ‘altaar’ waar God sondes vergewe. En dink jy jy sal wegkom sonder om gestraf te word?

 

“Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie… hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Hebreërs 10:26, 29).

 

[3] Is jy moedeloos en hopeloos oor jou sonde wat jou pla, omdat jy weet God is kwaad vir jou? Kyk na die Lam van God op die altaar van die kruis, en smeek om genade. ‘Hoe weet ek God sal my aanvaar?’ vra jy. Hy is die Een wat die altaar en die kruis uitgedink het, sodat sondaars na Hom toe kan kom!

 

[4] Is jy ‘n Christen wat met sonde speel? Wanneer laas was jý by die altaar van die kruis? Die altaar was nie net vir ongelowiges wat tot bekering moes kom nie, maar vir uitverkore Israel. Kan jy met sonde speel as jy die diep wond in Jesus se sy sien, die snye in sy kop, die spykers in sy hande en voete, die vore in sy rug, die bloed oral, sy vyande se spoeg op sy gesig, sy verskrikking as gevolg van God se toorn op Hom?

 

[5] Is jy ‘n Christen wat jou sonde haat en spyt is daaroor? Die altaar van die kruis is vir jou. Kom gereeld deur belydenis en bekering na die altaar toe (1 Johannes 1:7, 9). Skep moed en onthou Jesus se offer as jy die nagmaal vier. Streef met die Gees se krag om God se heiligheid in jou lewe te weerspieël:

 

“Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Petrus 1:15-16).

 

Hoekom moet jy op God se heiligheid regeer? God vereis ‘n reaksie. As jy bly soos jy is, vereis sy heiligheid dat jy hel toe gaan. Kom na die altaar toe en word verander.

 

Wat maak dat God God is? Dalk sê jy dis sy almag, ewigheid, oneindigheid, onveranderlikheid, alwetendheid, liefde, wysheid, en alles omtrent Hom. Jy is reg. Maar in essensie is dit sy heiligheid, uniekheid, en andersheid wat Hom God maak. Sy mag, kennis, liefde, wysheid is heilig, uniek, en gans-anders. As God dus sy heiligheid sou prysgee of kompromeer, is Hy nie meer God nie.

 

Laat niemand dan dink vergifnis en genade beteken God is nie ernstig oor sy heiligheid nie. Inteendeel, die kruis wys juis dat God eerder mens sou word en sterf, as om sy heiligheid prys te gee. In die kruis het God dus nie sy heiligheid weggegooi om na sondaars toe neer te daal nie. Hy het ons uit ons sonde kom haal om ons heilig te maak, sodat ons in sy heilige teenwoordigheid kan inkom.

[1] The NIV Study Bible, p.128 en John Currid, Evangelical Press Study Commentary: Exodus vol.2, pp.189-190

Lesse oor God uit die tabernakel

Tabernacle curtains

 

Die kerkvader Origenes (185-254 n.C.) het die allegoriese metode van Skrif interpretasie populêr gemaak.[1] Hy het geglo dat elke teks ‘n letterlike betekenis het, maar dat daar ook ‘n dieper geestelike betekenis is (allegorie). Allegorie is bv. om te sê die gekoer van die tortelduif in Hooglied 2:12 dui op die apostels se prediking. Hierdie metode van Bybel interpretasie is nie net verkeerd nie, maar gevaarlik.

 

Dit is egter nie allegorie as die Nuwe Testament sê dat ‘n sekere Ou Testament teks ‘n skadubeeld van Jesus is nie. Hebreërs 8:5, 9:23-24 sê dat die tabernakel vervul is in Jesus. Elke detail in die tabernakel beteken iets (Hebreërs 9:5). Die Nuwe Testament verf egter nie altyd met ‘n fyn kwas nie. Dus is dit wilde spekulasie om presies te sê hoe elke tentpent, afmeting, of edelmetaal in Jesus vervul is. Maar selfs met ‘n breë kwas verf die Heilige Gees in Eksodus 26 ‘n asemrowende prentjie van Jesus.

 

Die bedekking (v.1-14)

Die tabernakel was soos ‘n huis wat van buite af lelik lyk, maar van binne gepas is vir ‘n koning. Ek sal net-nou verduidelik hoekom.

 

Moses moes die tabernakel maak van tien stroke materiaal (v.1). Die stroke was gemaak van fyn linne, van blou, pers, en rooistof (v.1). Daar moes gerubs op die stroke geborduur word (v.1, sien Esegiël 1 vir gerubs). Elke strook moes 12.6 x 1.8 m wees (v.2). Die stroke moes in twee stelle van vyf aanmekaar vasgewerk word (v.3). Elke strook sou 12.6 x 9 m wees (v.3).

 

Daar is vyftig bloupers lissies aan die rand van elke stel vasgewerk. Die twee stelle sou dan by die lissies met goue hakkies aan mekaar vasheg word (v.4-6). Die hele bedekking sou soos ‘n groot tafeldoek oor die tabernakel gegooi word. Die hakkies het dan oor die middel van die dak se breedte gelê soos ‘n ry krammetjie-steke ná ‘n hartomleiding. Die tent moes ‘n geheel wees (v.6).

 

Bo-oor die blou, pers, rooistof, en linne was daar nóg ‘n bedekking van bokhare (v.7). Dit sou keer dat die son die gekleurde materiaal verbleik. Hierdie keer moes Moses nie tien stroke materiaal maak nie (v.1), maar elf (v.7). Elke strook was 13.5 x 1.8 m (v.8). Dit was dus 90 cm langer as die gekleurde stroke. Die ekstra lengte was nodig, omdat dit soos ‘n tent se seil met penne vasgetrek moes word (v.13, 27:19, 35:18, 38:31).

 

Die stroke van bokhare moes vasgewerk word in twee stelle. Die een stel het bestaan uit vyf stroke materiaal, en die ander een uit ses (v.9). Daar was weer vyftig lissies aan die rand van elke stel. Die twee stelle moes deur die lissies vasgeheg word met brons hakkies (v.10-11, nie goud soos in v.6 nie). ‘n Gedeelte van die bokhaar stroke het oor die agterkant gehang, en ‘n gedeelte oor die voorkant. Hulle moes dan die voorkant wat by die ingang was, dubbel vou (v.9, 12). Dit sou gelyk het soos ‘n kombers oor jou bed: onder hang dit af, maar bo vou jy dit dubbel. Bo-oor die bokhaar bedekking was daar rooigekleurde ramsvelle, en bo-oor dít was daar robbevelle op die dak (v.14). Het die dierevelle as bedekking dalk gewys dat God bloed stort om ons sondes te bedek (vgl. Genesis 3:21)?

 

Ek het reeds in hfst.25 gesê dat rooi, pers, en blou koninklike kleure is vir die Koning se tent. Die kleure en geborduurde gerubs wys:

 

[1] God is pragtig om te aanskou. Dawid wou in die tempel wees “om die lieflikheid van die HERE te aanskou” (Psalm 27:4). Paulus sê in 2 Tessalonisense 1:10 dat Jesus weer kom om “bewonder te word in almal wat glo”. Openbaring 4:3 beskryf die Here só: “…[Hy] het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag.”

 

[2] God is heerlik. Jesaja het sy heerlikheid gesien (Johannes 12:41), en sê dat die vlammende serafs hulle gesigte in sy teenwoordigheid bedek (Jesaja 6:1-2).

 

[3] God is aanbiddingswaardig. Johannes sê: “En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.” (Openbaring 4:9-11).

 

En weer: “Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende; en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier en twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.” (Openbaring 5:11-14).

 

Dit sou ‘n anti-klimaks wees as die priester ‘n spieël in die tabernakel moes invat, en die heerlikheid van God miskyk. Dis byna soos iemand wat ‘selfies’ neem by die Grand Canyon. Moenie so behep wees met jouself en hierdie lewe, dat jy die pragtige God in sy heerlikheid miskyk nie (Johannes 17:24).

 

Jy kon net die koninklike kleure sien as jy binne die tabernakel gestaan het. Van buite af het dit so vaal soos die woestyn gelyk. So is dit met Jesus. Vir die ongelowige lyk Hy soos enige ander mens. Judas moes Hom met ‘n soen uitwys (Matteus 26:48). Jesus het nie ‘n stralekrans (‘halo’) op sy kop gehad nie. Jy sou Hom nie tussen sy dissipels kon uitken nie. Dalk sou jy Hom kon uitken omdat Hy die lelikste was. Jesaja 53:2 sê: “Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.”

 

Die Heilige Gees het ons oë geopen om verby die vaal ‘tent’ van sy liggaam sien, sodat ons besef het Hy is die heerlike God. “En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.” (Matteus 17:2). “Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.” (2 Korintiërs 5:16).

 

Dalk het jy al baie keer die evangelie gehoor, en sit jy al vir baie jare in die kerk, maar jy sien nie sy heerlikheid nie. Net God kan jou oë oopmaak (Matteus 16:16-17, 2 Korintiërs 4:6). Selfs party Christene was lanklaas binne die ‘tent’, en sien net die buitekant van ‘n Jesus in sandale. Bid saam met Paulus Efesiërs 1:17-19, 3:16-19:

 

“dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte…

 

…dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.”

 

God is ook prakties. Twee kleiner stelle van 12.6 x 9 m sou gouer opslaan en makliker vervoer as een stel van 12.6 x 18 m. Die bedekkings van bokhare en diervelle was ook waterdig. God het ook nie oortollige materiaal as Hy werk nie (v.9, 13). Omdat hierdie dinge so is, moet jy nie in jou beproewing wonder of God dalk ‘n fout gemaak het, of Hy weet wat Hy doen, en of Hy iets onnodig doen nie.

 

Die raam (v.15-30)

‘n Man in ons kerk het my vertel van gorilla welding: dit is vrek lelik maar deksels sterk. Soldeer werk aan anderkant is mooi, maar nie so sterk nie. Die tabernakel was beide: mooi met goud en verskillende kleure materiaal, en sterk met stewige balke.

Tenons 2

Hoe het die struktuur gelyk waaroor die bedekking gehang het? Moses moes akasiahout balke met goud oordek. Die balke was 4.5 m x 67.5 cm (v.15-16, 29, 36:34). Onderaan elke balk was daar twee tappe [lett. hande] wat in die silwer voetstuk se twee tapgate moes inpas, sodat die balk kon vasstaan (v.17, 19).

 

Tenons 4Daar was twintig balke vir elke sykant (noord en suid), en veertig tapgate – twee per voetstuk (v.18-21). Die balke het nie teen mekaar gestaan soos wat party sketse wys nie, maar was eweredig versprei (vgl. die afmetings in v.16, 1-2). Ses balke het in twaalf tapgate aan die agterkant (wes) van die tabernakel gestaan (v.22). Daar was twee ekstra balke en voetstukke op die agterhoeke. Op elke hoek was daar dus twee balke wat teen mekaar gestaan het (v.23-25, sien skets hieronder). Dit was aan die bokant vas met ‘n ring.

Double frames on corners

Daar was vyftien pale van akasiahout wat met goud oordek is (v.29). Daar was goue ringe aan die balke, sodat die pale kon deursteek en die balke aan mekaar vashou (v.29). Daar was vyf pale vir elke sykant, en vyf pale vir die agterkant (v.26-27). Die middelste paal aan elke kant het dwarsdeur die hele lengte geloop (v.28). Aan elke kant was daar twee pale links (een bo en een onder) en twee regs (een bo en een onder). Moses moes alles presies bou soos wat God op die berg vir hom gewys het (v.30).

Tabernacle crossbars

Een kommentator bevraagteken die ram- en robvel bedekkings, en sê dit sou te swaar wees vir die tabernakel se swak struktuur.[2] Maar daar was 28 balke van 4.5 m x 67.5 cm, dubbel balke op die hoeke, voetstukke van soliede silwer, 15 pale wat die balke vashou, en nege stewige pilare (v.32, 37).

 

Wat is die les? In beproewing is God nie die wankelrige vuurhoutjie brug van ‘n kind se skoolprojek nie. Hy is ‘n stewige pilaar, reuse rots, en magtige berg: “God is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.” (Psalm 46:2). “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.” (Psalm 18:3).

 

Deur Hom kan jy self soos ‘n pilaar vasstaan en nie kantel nie. Die Skrif sê dat die kerk ‘n pilaar van die waarheid is (1 Timoteus 3:15). “Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie” (Openbaring 3:12).

 

Die tabernakel se afmetings, simmetrie, en plan (v.30) wys vir ons dat God presies en ordelik is (1 Korintiërs 14:33). Iemand het vir ‘n Puritein gevra hoekom hy so spesifiek is in sy aanbidding. Sy antwoord was: ‘Because I serve a precise God’ (soos wat die skepping ook wys).

 

Is jy ordelik en presies soos God? Moenie ‘n afgod maak van netheid, sodat jy ‘n perfeksionis is wat almal irriteer nie. Maar wees netjies in jou werk. Moenie slordig wees en jou werk aframmel nie (Kolossense 3:23, 1 Timoteus 6:2). Hoe lyk jou huis, kinders, huwelik, verhoudings, stiptelikheid, geld, liggaam, siel, lewe: chaoties of ordelik? Selfs in ons aanbidding moet daar orde wees. Ons moenie wanordelik wees soos die charismate nie. “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.” (1 Korintiërs 14:40).

 

Die gordyne (v.31-37)

‘n Maand gelede het ek die evangelie met ‘n ongelowige man en sy gesin gedeel. Ek het gevra: ‘Weet jy wie is jou grootste vyand?’ Hulle het geraai: ‘Die duiwel… slegte mense… jyself?’ Wat is die antwoord? God. Die gordyne in die tabernakel wys vir ons iets wat ons vergeet: God is gevaarlik (Hebreërs 10:31, 12:29).

 

Veil with pillars and claspsDie voorhangsel was van fyn linne, van blou, pers, en rooistof (v.31). Met fyn naaldwerk moes daar gerubs op geborduur word (v.31). Die voorhangsel het teen vier pilare gehang . Die pilare is van akasiahout gemaak wat met goud oordek is, en op silwer voetstukke gestaan het (v.32). Dit het goue gordynhakke gehad wat op die goue en koper hakkies in die dak gehang is (v.32-33, 6, 11).

 

Die ark met die versoendeksel op het agter die voorhangsel gestaan. Die Heilige is deur hierdie voorhangsel van die Allerheiligste geskei (v.33-34). Die tafel met toonbrode, die goue kandelaar, en die wierook altaar het in die Heilige gestaan (v.35, 30:1-6, as ‘n mens instap was die kandelaar links, die tafel regs, en die wierook altaar voor die voorhangsel).

 

Screen with five pillarsDaar was nóg ‘n gordyn by die ingang van die tent. Dit is gemaak van fyn linne, blou, pers, en rooistof met borduurwerk daarop (v.36). Teen die gordyn was vyf pilare gemaak van akasiahout, en oordek met goud (v.37, skets hieronder). Dit het koper, en nie silwer voetstukke gehad nie (v.37). Daar was goue gordynhakke om die gordyn mee op te hang (v.37).

 

Wat leer ons hieruit? God is heilig. Gerubs het sy troon teen vuil mensehande beskerm (v.31, 25:18-20, Genesis 3:24). Net priesters kon in die Heilige ingaan, en net die hoëpriester kon een keer per jaar in die Allerheiligste agter die voorhangsel ingaan (Hebreërs 9:6-7). Moet dan nie nonchalant en met ‘n slenterhouding voor God kom nie. Vrees Hom as die Heilige Een.

 

Maar vrees is net een kant van die muntstuk. Toe Jesus sy asem uitgeblaas het, het God die voorhangsel geskeur (Matteus 27:51). Nou kan jy enige tyd en met vrymoedigheid nader kom (Hebreërs 4:16, 10:19-20). Hoe voel jy as jou kind bang is om sy hart met jou te deel; as jou kind nie met jou wil praat nie? Voel God nie so as jy huiwer om na Hom toe te kom, as jy bang is Hy sal nie jou gebede verhoor, of as jy baie min bid nie? Sal God die gordyn terughang? Sal Hy terugdraai op die belofte dat Hy sy Seun se offer as Hoëpriester aanvaar het? Geniet God dit nie as jy tot Hom bid nie: “die gebed van die opregtes is Hom welgevallig.” (Spreuke 15:8)?

 

Daar was een ingang vir die tent, en een ingang vir die Allerheiligste. Dit wys vir ons dat daar een weg na die Vader toe is: Jesus Christus (Johannes 14:6, Handelinge 4:12). Alle paaie lei nie na die hemel toe nie. Om soos Joel Osteen te sê dat opregte Hindus hemel toe gaan, is om te sê die kruis was ‘n mors van tyd: “Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.” (Galasiërs 2:21).

 

Voor in een van sy boeke skryf C.J. Mahaney vir sy vrou: ‘To Carolyn, with all my love. When I see you in a crowd, you’re the only one who appears in color – the rest of the world is black-and-white to me.’[3] Klink dit nie veel beter as: ‘To Carolyn. I love you. You are more beautiful than any other woman’ nie?

 

So is dit met die tabernakel. Dit is ‘n prentjie wat God in baie kleure beskryf. Dit is jammer dat ons in ons stiltetyd Eksodus tot by hfst.24 lees, en dan die res van die hoofstukke (oor die tabernakel) oorslaan om aan te beweeg na meer ‘interessante’ tekste toe.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol. 1, p.122

[2] Alan Cole, Tyndale Old Testament Commentaries: Exodus, p.194

[3] Sex, Romance, and the Glory of God

’n Prentjie van Jesus

Stencil of Jesus

Ek het gesien hoe man ’n onder vyf minute met dowwe oranje op ‘n groot swart bord verf. Die prent wat hy geverf het was onderstebo. Toe hy die bord omdraai, was dit Jesus se gesig met ‘n doringkroon op sy kop. Hy het nie die detail ingevul nie, maar met breë stroke geverf. Tog kon ‘n mens duidelik sien dit is Jesus. So is dit met die tabernakel in Eksodus 25. Jy kan nie die detail van Jesus se Persoon, lewe, en karakter sien nie, maar jy kan duidelik sien dis Hy.

 

Die tabernakel (v.1-9)

Ons hou jaarliks ‘n dankoffer Sondag waarin ons ‘n spesiale kollekte opneem. Ek onthou hoe opgewonde my kinders laasjaar was. In ons huisgodsdiens het hulle God daarvoor geprys. Hulle kon nie wag om te gee nie. So was die volk in v.1-9: hulle wou baie graag vir die Here se werk gee.

 

Moses was op die berg (24:18) en het daar die instruksies vir die tabernakel gekry (v.1-2, 20:19). Die volk moes vrywillig vir die bou van die tabernakel bydra (v.2, vgl. 1 Kronieke 29). Watse materiale het hulle nodig gehad?

 

[1] Edelmetale vir die kandelaar, tentpenne, basisse, oordekking van meubels, afwerkings op die hoëpriester se kleed: goud, silwer, en brons (v.3).

 

[2] Materiaal vir die priesters se klere, asook die binnekant van die tabernakel: blou, pers, rooi geweefde materiaal, en fyn linne. Die materiaal se kleur is verkry uit skulpvis, ‘n murex slak, en die coccus ilicis wurm se eiers en dop (v.4). Rooi, blou, en pers is koninklike kleure. Fyn linne is ‘n hoë kwaliteit materiaal wat deur Egiptiese adelikes gedra is.

 

[3] Dierevelle vir die tabernakel se buitekant (v.4-5): swart bokhare wat geweef is (dit is water bestand), gebreide ramsvelle wat rooibruin gekleur is, robbe of doegong[1] velle. Die Hebreeuse woord kan moontlik die velle van boerbokke, dolfyne, of ratels impliseer.

 

[4] Hout vir die meubels: akasia (v.5). ‘n Akasia is ‘n platkruin doringboom met digte hout wat nie graag deur insekte geëet word nie. Die hout is rooibruin met ‘n ligtebruin grein.

 

[5] Olies en speserye vir die lamp, wierook altaar, salwing van die priesters en parfuum (v.6). Arabië was bekend vir hul speserye.

 

[6] Edelstene vir die hoëpriester se borsplaat en skouers (v.7): oniksstene vir die skouers (hierdie stene kom in ‘n wye verskeidenheid kleure), twaalf soorte edelstene vir die borsplaat (28:17-20). Die volk het seker die materiale uit Egipte gekry (12:35-36).

 

Gee met gewillige hart. Onthou dat God sy Seun vir jóú gegee het (Johannes 3:16). Reageer dan in liefde en met ‘n dankbare hart (1 Johannes 4:19). Gee eers jouself voordat jy jou geld gee (2 Korintiërs 8:5). Moenie uit dwang gee, of dink jy staan onder die Ou Testament tiende-wet nie (sien my preke onder ‘Tiendes en Offergawes’). Gee volgens die voorspoed wat jy ontvang het (1 Korintiërs 16:2, 2 Korintiërs 9:7). Moenie gee omdat jy skuldig voel nie. Moenie met ‘n toe vuis gee nie, maar met ‘n oop en vrygewige hand (2 Korintiërs 9:6, Romeine 12:8). Hoekom moet jy só gee? Want die Skrif sê God het ‘n blymoedige gewer lief (2 Korintiërs 9:7).

 

Een van my vriende het vir my gesê: ‘Ek haat dit om van my vrou af weg te wees. Ek sou veel eerder saam met my vrou wees as met enige van my vriende. Ek geniet dit vreeslik om in haar teenwoordigheid te wees.’ Net so kan God nie naby genoeg aan sy volk wees nie. Hy kom nader en nader en nader tot in die Nuwe Testament en uiteindelik in die hemel.

 

Die volk moes ‘n heiligdom vir die Here bou, sodat Hy by hulle kon wees: God wou in hulle midde wees en nie in ‘n wolk op berg Horeb nie (v.8, 24:16): “En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees… Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel… dan sal Ek onder die kinders van Israel woon en my volk Israel nie verlaat nie.” (29:45, Levitikus 16:2, 1 Konings 6:13).

 

Toe Jesus aarde toe gekom het, het Hy onder sy mense kom woon. Die Grieks van Johannes 1:14 sê letterlik dat Hy onder ons kom ‘tabernakel’ het. 2 Korintiërs 6:16 gaan selfs verder: “Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Uiteindelik sal God vir ewig in ons midde wees in die hemel: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3).

 

Vra vir die Here om naby jou te wees. Hoe doen ‘n mens dit?

 

  • Jy bely jou sonde en bekeer jou daarvan: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:8).
  • Bid gereeld, want die Here is naby aan almal wat Hom aanroep in waarheid (Psalm 145:18, Deuteronomium 4:7).
  • Bid Efesiërs 3:16-17 dat God jou deur sy Gees versterk, sodat Christus in jou hart kan woon.
  • God gebruik beproewing om jou nader aan Hom te bring (Psalm 34:19). Moet dan nie teen Hom veg en so gou moontlik die beproewing agter die rug wil kry nie: “Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.” (Psalm 32:9).
  • Wees nederig, want God woon naby sulkes (Jesaja 57:15).

 

Hoekom moet jy vir die Here vra om naby jou te wees? Want dit is naby Hóm wat jy die grootste vrede en vreugde vind.

 

Vandag is daar ‘n beweging waarin Christene vir ongelowiges vra wat hulle in ‘n kerk soek, en die kerk daarvolgens inrig, sodat mense gemaklik kan voel. God wil hê ons moet Hom aanbid soos wat Hy sê, en nie soos wat mense wil hê nie. Die volk moes die tabernakel en sy meubels presies maak volgens die model wat God vir Moses gewys het (26:30, 27:8, 36:1, 39:1, 5, 7, 21, 26, 29, 31, 42, 40:16, 19, 21, 23, 25, 27, 29, 32). Hierdie model was maar ‘n skadubeeld van die ware tabernakel in die hemel (Hebreërs 9:23-24, 5, 8:2, 5).

 

Moses moes die Argitek se tekenplan volg, en nie sê: ‘Laat ons die tabernakel bou volgens die plan, maar ons kan ook enige ekstras aanlas wat God nie eksplisiet verbied het nie.’ Net so moet ons die Here aanbid volgens sý presiese voorskrifte in die Bybel, en nie volgens alles wat Hy nie eksplisiet in die Skrif verbied het nie (v.9). In teologie sê ons: ‘Ons aanbid die Here volgens die regulatiewe beginsel en nie volgens die normatiewe beginsel nie.’

 

Prakties beteken dit ons lees, preek, sing, bid, en sien die Bybel in elke erediens (1 Timoteus 4:13, 2 Timoteus 4:2, Kolossense 3:16, Matteus 6:9-13, Handelinge 4:24-26, Romeine 6:3-4, 1 Korintiërs 11:23-26). Hoekom moet ons die regulatiewe beginsel volg? Want as ons dit nié doen nie, oortree ons die tweede gebod (20:4-6), en aanbid ons die ware God op ‘n valse manier.

 

Die ark (v.10-22)

‘n Man het eendag gehoor dat my vrou koeke bak en in ‘n grap gesê dat sy ‘n koek moet bak, en ‘n klein ark met gerubs op bo-op die koek moet sit. Sy gewete het hom onmiddellik getref, sodat hy gesê het: ‘My hart is so pervers dat ek lag oor iets wat heilig was in die Ou Testament.’ Hy was reg.

 

Van al die meubels in die tabernakel word die ark eerste genoem, omdat dit die troon van God was (2 Samuel 6:2). Dit was ‘n boks wat van akasia hout gemaak is: 112,5 x 67,5 x 67,5 cm hoog (‘n el was 45 cm). Dit was binne en buite met suiwer goud oordek. Daar was ‘n goue rand om die kant. Dit wys vir ons dat God nie net funksioneel is nie: Hy hou van kunstige en pragtige werk – soos in die skepping – wat sy skoonheid en heerlikheid weerspieël (vgl. 28:2).

 

Daar moes vier goue ringe aan die vier voete wees (hier is die skets verkeerd). Die akasia pale moes met goud oordek word en deur die ringe gesteek word, sodat die Leviete die ark op hulle skouers kon dra – hulle mag nie aan die ark geraak het nie (1 Konings 8:8, 1 Kronieke 13:7-10, 15:13-15). Moses het die klip tafels met die Tien Gebooie van die Getuienis binne-in die ark gesit (Hebreërs 9:4).

 

Bo-op die ark moes ‘n versoendeksel van soliede goud gemaak word (112,5 x 67,5 cm). Op die Dag van Versoening het die hoëpriester dié deksel sewe keer met bloed gesprinkel (Levitikus 16:16). Die versoendeksel staan dus tussen die volk en God se gebreekte wet. In die Nuwe Testament sprinkel Jesus sy bloed as versoening tussen ons en God se gebreekte wet (1 Johannes 2:1-2).

 

Aan die kant van die deksel was daar twee gerubs wat met hulle vlerke aan mekaar geraak het (Hebreërs 9:5). Hierdie is in Jesus vervul, toe daar twee engele aan beide kante van sy graf gestaan het (Johannes 20:12). ‘n Gerub is ‘n hemelwese wat lyk soos ‘n mens, ‘n leeu, ‘n bees, en ‘n arend (Esegiël 1, 10, Openbaring 4). Die gerubs het God aanbid en ook sy troon teen die mens se besmette hande bewaak (Genesis 3:24, Openbaring 4:6b). Hulle vlerke was gesprei, sodat God dit as sy troon kon gebruik (1 Samuel 4:4). Hulle gesigte was na onder gedraai, omdat hulle God in sy heerlikheid nie kon aanskou nie (Jesaja 6:2). God het Moses hiér ontmoet en met hom gepraat (v.22, Numeri 7:89, Psalm 99).

Ark of Covenant

Kom in God se troonkamer in. Kom in deur die bloed van Jesus, ons versoendeksel, en deur die geskeurde voorhangsel (Hebreërs 10:19-22). Kom in gebed (Hebreërs 4:16). Kom met ‘n rein hart (Hebreërs 10:22). Kom met vrees en eerbied (Hebreërs 12:28-29). Kom met vrymoedigheid en geloof dat God jou nie sal doodmaak nie, maar sal aanvaar deur Jesus (Hebreërs 4:16, 10:22). Kom in en sien die heerlikheid van Iemand wat groter is as Salomo. As jy Hom, sy troon, sy troonkamer, sy diensknegte, sy rykdom sien, sal jou asem weggeslaan wees (1 Konings 10:4-7).

 

Die tafel (v.23-30)

As boemelaars aan my deur klop vra hulle dikwels só vir kos: ‘Ek vra net ‘n stukkie brood.’ As iemand baie arm is, sê hy: ‘Ek kan nie eers brood op my tafel sit nie.’ Brood is ‘n metafoor vir jou basiese lewensbehoeftes. Dis die punt van die tafel met toonbrode: God voorsien vir sy volk.

 

Die tafel was van akasia hout gemaak: 90 x 45 x 67,5 cm hoog. Dit is oordek met suiwer goud, het ‘n goue rand gehad, en kante soos ‘n snoekertafel wat 7.5 cm bo die blad moes uitsteek. Daar was ‘n rand van fyngoud om hierdie lys. Daar was ook goue ringe net onder die blad op die tafel se vier bene. Pale van akasia hout wat met goud oordek is moes deur die ringe gaan, sodat die Leviete dit op hulle skouers kon dra.

 

Daar moes ook goue borde, rookpanne vir die wierook, kanne en bekers vir die drankoffers wees. Daar was ‘n blou tafeldoek oor die tafel (Numeri 4:7). Die instrumente en brode moes op die tafel wees. Elke Sabbat moes daar 12 vars brode (in twee hope van ses) met wierook bo-op op die tafel wees. Die priesters kon hiervan eet (Levitikus 24:5-9, Hebreërs 9:2). Die heidene het brood in hulle tempels gesit om die gode te voer. Dit is nie die geval hier nie. Die brode wys eerder dat God sy volk versorg. Jesus self is die Brood uit die hemel, die Brood van die Lewe wat ons voed (Johannes 6:32-35).

Table for Bread

Sien ‘n prentjie van Jesus in die tafel. Eet hierdie geestelike Brood deur geloof (Johannes 6:32-35). Eet Brood deur gemeenskap met Jesus te hê (Openbaring 3:20). Eet Brood deur die nagmaal te herdenk (1 Korintiërs 11:23-26). Eet Brood in die Koninkryk van God (Psalm 23:5, Lukas 14:15). Eet Brood in die Woord van God (Job 23:12, ESV). Moet ook nie vergeet om vir jou daaglikse brood te bid en die Here daarvoor te dank nie (Matteus 6:11, 1 Timoteus 4:4-5). Sonder brood in jou maag sal jy sterf, en sonder Jesus, die Brood van die Lewe, sal jy geestelike sterf.

 

Die kandelaar (v.31-40)

Na ‘n paar weke van reën in Johannesburg het ‘n radio omroeper gesê: ‘Sjoe, dis lekker om weer die son te sien.’ Kan jy dink hoe voel mense in Skandinawië, Siberië, en Alaska waar daar by tye in die jaar net 4 ure sonskyn per dag is? Hoe verlig voel hulle nie as die son na ‘n donker winter weer vir lang ure in die somer skyn? Almal geniet lig. Dink maar aan hoe lekker dit is om in Kaapstad die son na 20:00 te sien. Die lig in die tabernakel moes hierdie idee skep.

 

Die kandelaar is van een stuk suiwer goud gemaak (Hebreërs 9:2). Dit het bestaan uit ‘n voetstuk, ‘n stam, takke, kelke, knoppe, en blomme. Die takke het uit die middelste stam geloop: drie takke aan elke kant. Daar was ‘n kelk, ‘n knop, en ‘n blom (soos amandel bloeisels) op elke tak. Op die middelste stam was daar vier kelke, knoppe, en blomme wat mooi tussen die voetstuk en die bo-punt versprei was. Daar was ook nóg kelke, knoppe en blomme op die ander takke waar hulle by die stam uitloop.

 

Daar was sewe klein lampies op die sewe koppe. Die lampe was na vore gedraai, sodat die lig op die tafel kon skyn (onthou, daar was nie vensters nie). Daar was ook goue snuiters om die lamppit te ‘trim’, en sewe goue bakke (was dit dalk om die olie in te meng?). Alles saam is uit 34 kg (1 talent) suiwer goud gemaak. Die kandelaar het gewys dat Israel die lig vir die nasies is (Jesaja 60:3), en is vervul in Jesus wat die Lig vir die wêreld is (Johannes 1:6-9, 8:12).

 

Moses moes alles maak soos God vir hom gewys het (v.40).

Golden lampstand

Leef in en as die lig van die Nuwe Testament. Hoe doen jy dit? Los die donker van jou sonde en kom na die lig toe (Johannes 3:19-21). Hou op om dinge in die geheim te doen. Bely jou sonde, want God hou nie gemeenskap met die donker van sonde nie (1 Johannes 1:5-7). Deel die evangelie met ander en vat só die lig na hulle toe (Handelinge 13:47). As gemeente moet ons die lig van die evangelie in die wêreld skyn (Openbaring 1:20). Anders beteken ons niks en sal Jesus ons lig uitdoof (Openbaring 2:4-5). Leef heilig en skyn Jesus se lig voor die wêreld (Matteus 5:16). Streef na die ewige Lig van die hemel: God self (Openbaring 21:22-25). Wat is die alternatief? Die ewige duisternis van die hel (Matteus 25:30).

 

As ‘n sekere spreker by ‘n nuwe plek praat, wys hy ‘n foto van ‘n vrou op die skerm en sê: ‘Dit is nie my vrou nie; dis net ‘n prentjie van haar.’ So is dit met die tabernakel: dis nie Jesus nie, maar net ‘n prentjie van Hom. In die Nuwe Testament skyn daar ‘n voller lig, en sien ons Jesus self. As Hy weer kom sal ons Hom met ons oë sien en vir ewig by Hom wees. Dan sal ons nie net van die tabernakel vergeet nie, maar selfs van ‘n lewe van geloof op aarde, want in die hemel sal geloof aanskoue word.

[1] ‘n Doegong is middelmatige grootte seedier met ‘n stert soos ‘n dolfyn, twee syfinne soos ‘n rob, geen vin op sy rug nie, ‘n lyf en kop soos ‘n walrus (dit het nie lang tande soos ‘n walrus nie), ‘n snoet soos ‘n Bullmastiff of ‘n Shar Pei (die hond met die baie los velle). Hierdie diere kom onder andere voor in die Rooisee.