Die tien plae: Donker en dood

Death of firstborn

Afgodery is dom en maak jou so.  Oor dié wat afgode dien sê Jesaja 44:18-20:  “Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie; en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie:  Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan ‘n gruwel maak?  Sal ek neerkniel voor ‘n stuk hout?  Hy wat hom besig hou met as, ‘n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?”  Afgode is blind, doof, en stom.  Almal wat hulle aanbid word ook so (Psalm 115:8).

 

‘n Man vat ‘n stuk yster en maak ‘n god daarvan.  Hy word moeg en honger terwyl hy werk (Jesaja 44:12).  Of hy kap ‘n boom af.  Hy brand ‘n stuk hout om warm te kry, brood te bak, of vleis te braai.  Met die res maak hy ‘n god.  Hy aanbid dit en vra dat die god hom sal red (Jesaja 44:13-17).  Die god kan nie self loop nie – iemand moet hom dra (Jesaja 46:1-2).  Hy moet dit op ‘n voetstuk vasspyker, sodat dit nie omval nie (Jeremia 10:3-5).  Die god kan nie hoor, sien, praat of help nie (Psalm 115:4-7).

 

Natuurlik praat ons hier net van beelde.  Maar ‘n afgod kan ook in ons harte wees.  As jy byvoorbeeld meer maak van geld as van God, aanbid jy ‘n afgod (Matteus 6:24).  Om ‘n skewe beeld van die ware God te hê, is ook ‘n afgod.  Iemand wat praat asof God sonde aanvaar of alewig mense wil straf, aanbid ‘n afgod.  Eksodus 10:21-11:10 gee vir ons ‘n beeld van die ware God wat red en straf.

 

Die negende plaag:  Donker (10:21-29)

Alcatraz was die V.S.A. se maksimum gevangenis.  Die misdadigers wat hier was sê dat die donker sel die ergste straf was:  ‘As hulle jou daar toesluit wil jy mal word.’  In Suid-Afrika ken ons die frustrasie van beurtkrag.  Maar wat as dit soos die negende plaag was en jy nie ‘n kers of kragopwekker het nie; as die hele land donker is?

 

Moses moes sy hand na die hemel toe uitstrek.  God het vir Amon-Ra, Egipte se opper-songod getref.  Die maangod Thoth het ook deurgeloop.  Duisternis is ‘n simbool van God se oordeel oor sonde:  “En dit is die oordeel:  dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos… En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe” (Johannes 3:19, Matteus 27:45).

 

‘n Mens kon die duisternis voel (as jy ooit in die Goede Hoop kasteel se donker gat was, kan jy bevestig dat dit so is).  Die drie dae in v.22 stem ooreen met die drie dae in 8:27:  “Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die HERE onse God kan offer soos Hy ons sal beveel.”  Farao het geweier en nou het God hom vir drie dae met duisternis getref.

 

Wat was die effek van die duisternis?  Dit moes seker baie koud geword het.  Kinders sou bang gewees het.  Die Egiptenare self het gevrees omdat Amon-Ra vir so lank weg was.  Dit moes eensaam en vervelig gewees het.  Sonder ‘n yskas met ‘n liggie in, was dit seker moeilik om kos en water te soek.  In Gosen waar die Israeliete gebly het, was dit lig.  Farao het vir Moses laat roep en gesê dat die kinders saam kon trek (v.24, 10).  Hy het egter gesê dat die vee moes agterbly.  Moses was nie bereid om God se Woord te kompromeer nie, en het gesê dat die vee moes saamgaan, omdat hulle dit vir die Here moes offer.  God wou nog een plaag stuur.  Daarom het Hy Farao se hart verhard.

 

Farao het geweier om die vee saam te stuur.  Hy het gesê dat Moses nie weer sy gesig sou sien nie (onthou, dis donker), maar sou sterf.  Moses het geglo dat God sy volk sou bevry en was nie bang vir Farao nie (Hebreërs 11:27).  Hy was sarkasties en het Farao se woorde beaam:  ‘Jy’s reg Farao – ek sal nie weer jou gesig sien nie!’

 

Ons moet die lig van God se guns soek.  Toe Jesus aan die kruis was het die son vir drie ure opgehou skyn (Lukas 23:44-45).  Sy liggaam was vir drie dae in ‘n donker graf (Matteus 16:40).  Dit het Hy gedoen, sodat God se lig oor ons kan skyn.  Sy lig skyn oor:

 

  • Dié wat in Hom glo en Hom volg: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Johannes 8:12).
  • Dié wat hulle sonde bely en laat staan: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:5-7, 9).
  • Dié wat hulle broers liefhet: “Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.” (2 Johannes 2:9-11).
  • Dié wat God se Woord lees en gehoorsaam: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Psalm 119:105).
  • Dié wat die armes liefhet en versorg: “jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring… As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee… Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees. Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.” (Jesaja 58:7-10).

 

Ons moet God se lig reflekteer deur goeie werke en evangelisasie:  “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).  “Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” (Handelinge 13:47).

 

In die hemel sal God se lig altyd oor ons skyn (Openbaring 21:22-24, 22:5).  In die hel is dit donker (Matteus 25:30, Judas 6, Openbaring 16:10).  Dit is seker ook eensaam en vervelig.  Daar sal jy bang wees vir die donker.  Wie die ware God dien het lig en blydskap:  “welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is!” (Psalm 144:15).  Dié wat afgode dien het oneindige smart:  “Die smarte van hulle wat ‘n ander god met gawes vereer, sal menigvuldig wees” (Psalm 16:4).  As jy sê dat ‘n God van liefde nie mense in die buitenste duisternis van die hel sal werp nie, aanbid jy ‘n vals god.

 

Die tiende plaag:  Dood (11:1-10)

Jy het seker al gehoor dat mense sê:  ‘Kinders moet hulle ouers begrawe, nie andersom nie.’  Toe ek studeer het is een van my mede-studente in ‘n ongeluk dood.  Vier jaar later het ek haar ma gebel om te hoor hoe dit gaan.  Haar woorde was:  ‘Dit sal seker nooit goed gaan nie.’  ‘n Vierjarige kind is in my vriend se arms dood.  Hy het vir my gesê dat ‘n kind se begrafnis erger is as ‘n grootmens s’n.  Nou het jy ‘n idee van hoe erg dit was toe die eersgeborenes in Egipte dood is.  Regoor die land het die ouers gehuil.  Die hel is erger.  Dit is vir ewig ‘n plek van trane:  “daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matteus 25:30).  J.C. Ryle het gesê:  ‘There is a place where there is some tears – earth.  There is a place where there is only tears – hell.  There is a place where there is no tears – heaven.’

 

Hoekom het God tien plae gestuur en nie nege of elf nie?  Tien is ‘n getal van volheid.  God wou wys dat Hy Egipte se gode totaal en finaal vernietig het.  Farao sou die Israeliete verdryf:  mans, vroue, kinders en vee.  Die Israeliete moes hulle bure vra vir goud en silwer.  Hulle sou dit later gebruik om die tabernakel te bou (ongelukkig het hulle eers ‘n goue kalf gebou!).  God het die Egiptenare se harte sag gemaak, sodat hulle hul juwele vir die Israelite gegee het.  So is Genesis 15:14 vervul:  “hulle [sal] uittrek met baie goed.”  God het vir Moses voor die Egiptenare en die volk Israel verhef (vgl. Deuteronomium 34:10-12).

 

God het gesê dat Hy die Egiptenare teen middernag sou tref (v.4).  Hulle het geglo dat Amon-Ra in dié tyd na die onderwêreld toe is.  Jahwe het weereens gewys dat Egipte se gode magteloos is, en dat Hy nie sluimer of slaap nie (Psalm 121:4).  God sou die eersgeborenes van Egipte tref:  van Farao se opvolger wat op die troon sit (die Egiptenare het geglo Farao is ‘n inkarnasie van Amon-Ra en Osiris) tot die slavin se seun en die vee.  Die Egiptenare het Israel se seuns doodgemaak (1:22).  Nou sou God Farao se seun tref (4:23).

 

Die Egiptenare het erg getreur en waarskynlik uitgeroep tot hulle gode, maar dit het nie gehelp nie.  Kontrasteer dit met 2:23-25 waar Israel uitroep en God hulle verhoor.  Nie eers ‘n hond sou teen die Israeliete en hulle vee grom nie.  Met ander woorde, Jahwe het hulle beskerm en daarom sou hulle nie in die minste skade ly nie.  Die Egiptiese god van die doderyk (Anubis) het ‘n hond se kop gehad.  Hy kon nie teen God se volk staan nie.  Met die laaste plaag sou God weer ‘n duidelike onderskeid tussen sy volk en die Egiptenare tref.  God het voorspel dat Farao se diensknegte hulle voor Moses sou neerbuig en smeek dat die Israeliete moes trek.  Moses is in heilige toorn voor Farao weg (Efesiërs 4:26).  Farao wou nogsteeds nie luister nie.  God het hom verhard, sodat Hy nog hierdie laaste plaag kon stuur.

 

Het jy ‘n vyand wat die lewe vir jou moeilik maak?  ‘n Persoon wat jou fisies seermaak?  Dalk iemand wat jou verbaal of emosioneel boelie?  Is dit ‘n baas by die werk, jou huweliksmaat, ‘n familielid, ‘n kind by die skool?  God kan jou vyand se hart sag maak, sodat hy aan jou goed doen (v.3, Spreuke 16:7).  Hy kan jou vyande voor jou voete laat neerbuig (v.8, Filippense 2:10, Openbaring 3:9, 2 Samuel 16:5, 19:18).

 

Moet daarom nie jou vyande vrees nie (Hebreërs 13:6), maar bid vir hulle, seën hulle, doen goed aan hulle, en probeer om vrede te maak (Lukas 6:27-36, 23:34, Romeine 12:14, 20-21, 18).  Maar wat as hulle nie wíl verander nie?  Dan moet jy nie self wraak neem nie (Romeine 12:19).  Los dit vir die Here; gee die saak vir Hom in gebed:  “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag… toe Hy uitgeskel is, [het Hy] nie terug uitgeskel…nie; toe Hy gely het, [het Hy] nie gedreig…nie, maar dit oorgegee…aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23, Psalm 37:5-6).  Jy kan hulle nie volgens verdienste straf nie; God kan.  Hy sien hulle harte en sal die straf uitmeet wat hulle toekom.

 

Die gode van die nasies veg soms teen mekaar.  In ‘n Babiloniese mite het een god ‘n ander middeldeur gekap en sy ingewande gebruik om die hemel en aarde mee te maak.  Die gode staan nie ‘n kans teen die ware God nie.  Om die waarheid te sê bestaan hulle eers nie.  Hy alleen is die ware God.

Advertisements

Die tien plae: Sprinkane

Locust plague

In 2008 het ek die evangelie met ‘n sekuriteitswag gedeel.  Hy het gesê dat hy in Shembe glo, en dat Jesus ‘n profeet was maar nie God nie.  Ek het vir hom gevra of Shembe die see kan bedaar; of Shembe sondeloos is.  Die Skrif leer duidelik dat Jesus die ware God is.  Judas 5 sê:  “Jesus… saved a people out of the land of Egypt, afterward destroyed those who did not believe.” (ESV).  Ja, dit was Jesus wat in Eksodus 10:1-20 die sprinkaanplaag gestuur het.  Ook hier het Hy gewys dat hy die ware God is.

 

Die sewende plaag:  Sprinkane (v.1-20)

 

[1] God waarsku vir Farao (v.1-6)

Ek het eenkeer vir ‘n apteker gevra hoekom hy kerkgeskiedenis begins studeer het.  Sy antwoord was:  ‘As ons die geskiedenis ken kan ons die foute vermy wat hulle gemaak het, en leer uit die goeie dinge wat hulle gedoen het.’  Ek sal byvoeg dat ons die Here kan prys vir die groot dinge wat Hy gedoen het deur sy volk te verlos en haar vyande te oordeel.  Ons kan begeer dat Hy dieselfde in ons tyd sal doen.  As ek oor die hervorming of herlewings lees, begeer ek dat die Here weer so sal ingryp.  Dis die les in die eerste ses verse.

 

Moses het dié keer in die paleis ingegaan om met Farao te praat.  Nog ‘n keer sou die Here sy krag aan die verharde Farao wys.  Deur dié en ander wonders sou Israel se nageslag ook weet dat Hy die ware God is (v.2).  “o God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel:  ‘n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd.” (Psalm 44:2).  “Hy tog het ‘n getuienis opgerig in Jakob en ‘n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het—om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar” (Psalm 78:5-7).  Na die sprinkaan plaag in Joël sê die Here:  “Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag” (Joël 1:3).

 

Die koning het steeds geweier om hom voor God te verneder, en die bevel te gehoorsaam om Israel te laat trek.  God sou genadig gewees het as Farao hom onderwerp het (1 Konings 21:29, 1 Petrus 5:6).  Omdat Farao hardkoppig was, het die Here gesê dat Hy die volgende dag ‘n sprinkaanplaag sou stuur.  Nog ‘n keer het die Here gewys dat Hy soewerein is en die gode nie.  Selfs met ‘n dag se kennis kon die gode Hom nie keer nie.  Die sprinkane sou die land bedek, die bome kaal vrees, en in die huise inklim – die ergste plaag wat Egipte ooit gesien het (v.6, 14).  Joël se beskrywing van so ‘n plaag help ons om Eksodus 10 beter te verstaan:

 

  • “Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind.” (Joël 1:4).
  • “Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword.” (Joël 1:7).
  • “‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ‘n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.” (Joël 2:2).
  • “Voor hom uit verteer ‘n vuur, en agter hom brand ‘n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit ‘n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie.” (Joël 2:3).
  • “Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos ‘n dief.” (Joël 2:9).

 

Die sprinkaanplaag, soos die haelplaag, was ‘n aanval op die Egitiese gode van die atmosferiese hemel.  Shu, Tefnut, en Nut was veronderstel om die wind te beheer (v.13, 19).  God het ook die gode van die plante, landbou, en oeste – Geb en Seth – vernietig (v.5, 12, 15).  Volgens die Egiptiese godsdiens het Serapia die sprinkane beskerm.  Die God van Israel het gewys dat ook dié god magteloos was (v.19).

 

Ons moet die volgende geslag van die ware God leer, en hulle teen vals gode waarsku.  Sommige Christen pa’s leer nie vir hulle kinders die Bybel nie.  Ek wil pa’s aanmoedig om huisgodsdiens te hou.  Die Bybel sê:

 

  • “en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deuteronomium 6:7).
  • “Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen” (Genesis 18:19).
  • “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Efesiërs 6:4).
  • “ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Josua 24:15).
  • “Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (Spreuke 6:20).
  • “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” (Spreuke 22:6).
  • “jy [ken] van kleins af die heilige Skrifte… wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” (2 Timoteus 3:15).

 

Moet dit nie aan die skool of Sondagskool oorlaat om hulle te leer, sodat jy jou plig versuim nie.  Weet jy wat die skool en Sondagskool vir jou kinders leer?  Indien jy ‘n oupa of ouma is wat weet dat jou kleinkind nie ‘n Bybelse opvoeding kry nie, kan jy gerus die kans gebruik om hom of haar reg te leer.  Timoteus het die evangelie by sy ma en ouma geleer (2 Timoteus 1:5).  Die psalmskrywer sê:  “En ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag.” (Psalm 71:18).

 

Lees vir jou kinders Bybelgeskiedenis, kinder-biografieë en kerkgeskiedenis.  Moet dit nie net lees nie, maar leer vir hulle die lesse daaruit.  Wys ook uit die geskiedenis hoe die kerk dwalinge bestry het.  Jy kan byvoorbeeld vertel hoe die kerk in die hervorming van die vals Katolieke sisteem af weggebreek het.  Vertel ook vir jou kinders hoe die Here in jou lewe gewerk het (Josua 4:6).  Sorg dat jy self ook geskiedenis lees, sodat jy daaruit kan leer.

 

Hoekom is hierdie dinge belangrik?  Hoor die Woord van die Here:  “En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie.  En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE:  hulle het die Baäls gedien en die HERE, die God van hulle vaders, verlaat wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en hulle het agter ander gode aan geloop, van die gode van die volke wat rondom hulle was, en hulle daarvoor neergebuig en die HERE geterg.” (Rigters 2:10-12).  Asaf sê dat ons God se werke vir ons kinders moet vertel, sodat hulle “nie word soos hulle vaders nie, ‘n koppige en wederstrewige geslag, ‘n geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.” (Psalm 78:8, vgl. v.4-7).

 

[2] Farao onderhandel met God (v.7-11)

Daar is ‘n stam in die Kalahari wat bobbejane vang en vir hulle sout voer.  Die bobbejane weet waar die water is.  Met ‘n bek vol sout hardloop hulle baie vinnig na die ondergrondse waterbronne toe.  Só kry die mense water.

 

Maar hoe vang hulle die bobbejaan?  Terwyl ‘n jong bobbejaan toekyk grou die man ‘n klein gat in ‘n miershoop.  Hy sit dan pampoenpitte in die gat.  Die bobbejaan is nuuskierig en steek sy arm in die gat.  As hy die pampoenpitte in sy hand het kom die man nader.  Die bobbejaan skreeu, maar is nie bereid om die pitte te los nie.  So vang die man hom.

 

Farao wou nie voor die Here buig of sy reg as ‘n ‘god’ oor Israel opgee nie.  Hy sou eerder sien hoe die land ondergaan.  Die koning was so hardkoppig dat sy knegte moes vir hom sê dat die land verwoes is, en dat hy die Israeliete moes vrylaat.  Ongelukkig het hulle die idee in sy kop geplant dat hy net die mans moes laat gaan (v.7).  Farao was nie bereid om die kinders vry te laat nie.  Hy het geweet dat hy nog in beheer sou wees as die kinders in Egipte gebly het.  Hy sou die kommuniste se stelling beaam:  ‘Gee my ‘n kind vir die eerste sewe jaar, en hy sal vir die res van sy lewe ‘n kommunis wees.’

 

Farao het bose intensies gehad, en tog sê hy vir Moses en Aäron:  “julle het ‘n verkeerde ding voor oë.” (v.10).  Farao herinterpreteer God se gebod en sê vir Moses:  “Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang.” (v.11).  Hy besluit sommer vir hulle wat God gesê het.  So maak ons post-moderne samelewing:  hulle verdraai die Bybel om dit te laat beteken wat húlle wil.  Verse wat sê dat homoseksualiteit sonde is of dat vroue nie mag preek nie, word verdraai om die teenoorgestelde te beteken.  Moenie soos Farao wees en die Bybel verdraai om jóú voorkeure te pas nie.

 

Farao het vir Moses en Aäron weggejaag (v.11).

 

Buig voor die ware God se Woord en luister na sy waarskuwings.  Moenie net die verse lees wat jou gemaklik laat voel, en die moeilikes oorslaan nie.  Net so moet jy nie afskakel wanneer die prediker tekste uitlê waarvan jy nie hou nie.  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig vir lering (2 Timoteus 3:16).  As gemeente en individue moet ons nederig wees en alles gehoorsaam wat die Here sê.

 

Hoekom moet ons die Skrif gehoorsaam en ag slaan op God se waaskuwings?  As ons nie gehoorsaam is nie, sal God se oordele erger word (Levitikus 27:18, 21, 24, 28).  In Psalm 32:9 sê die Here:  “Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.”  As jy nie nóú voor die ware God buig nie, sal jy later buig.  Op die oordeelsdag sal elke knie voor Jesus buig (Filippense 2:10).

 

[3] God bring en verwyder die plaag (v.12-20)

In Maart 2013 het ‘n sprinkaanplaag Madagaskar getref – die ergste een in 60 jaar.  Een swerm was 15 km lank en het 45 minute geneem om die nasionale pad, roete 7, te kruis.  Daar was omtrent 100 sulke swerms met ‘n totaal van 500 biljoen sprinkane.  Die sprinkane het elke dag 100 000 ton verorber.  Hulle het meer as 50% van die eiland se gewasse vernietig.  Maar die plaag in Egipte was erger.  Die grond kon nie eers gesien word nie.

 

God het die sprinkane met die ooste wind gebring.  Dit moes erg gewees het, want volgens Genesis 41:6 en Jona 4:8 het dié wind plante doodgeskroei en mense laat flou voel.  Die swerm sprinkane was so dig dat die landoppervlak nie gesien kon word nie.  Hulle sou ook die son uitgedoof het.  “Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in.” (Joël 2:10).  Die sprinkane het selfs die bas van die bome afgevreet (v.5, vgl. Joël 1:7).  Het jy al gesien hoe bome vrek as olifante die bas gering het?  Toe die sprinkane deurgetrek het, het dieselfde gebeur.  Al die bome in Egipte het gevrek.  Groen plante gee suurstof.  Omdat die sprinkane al die groen plante afgevreet het, sou die land ‘n suurstof tekort hê.

 

Farao het vir Moses laat roep en weer vals berou gehad.  Hy was nie jammer oor sy sonde nie, maar wou net van die plaag ontslae raak.  Hy was bereid om sy sonde te erken en te bely.  Maar hy was nie regtig jammer nie.  Hy het gesê:  “Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde” (v.17).  Hy was tevrede dat sy sonde net een keer vergewe word.

 

God het ‘n westewind gestuur om die plaag te verwyder.  Hy het al die sprinkane in die Rooisee laat verdrink – ‘n voorskou van wat met die Egiptenare sou gebeur (hfst.14).  Nie een sprinkaan het in die land oorgebly nie.  God het Farao se hard verhard sodat hy Israel nie laat trek het nie.

 

Reageer reg wanneer die Here ‘plae’ in jou lewe stuur.  As God jou tref moet jy nie soos Farao hardkoppig wees en aanhou met jou sonde nie.  Na die plae in Openbaring 9 (onder andere ‘n sprinkaanplaag!) lees ons:  “En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.  En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.” (Openbaring 9:20-21).

 

Wees opreg in jou belydenis en bekering.  Moenie net ‘berou’ hê omdat jy wil hê die Here moet die plaag wegvat nie (v.16-17).  Hoeveel keer moet God jou tref voordat jy sal luister?  As jy sondig en sê dat jou lyding nie Gód se oordeel is nie, skep jy ‘n god van jou eie verbeelding.  Neem Lukas 13:1-5 ter harte:

 

“En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.  En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het?  Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.  Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?  Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.”

 

Bekeer jou van jou sonde en glo die evangelie soos Romeine dit verduidelik.  As jy jou nie bekeer nie, sal dinge erger word – baie erger.

 

Twee weke gelede het een van my vriende ‘n professionele debat gehou teen ‘n Moslem.  Die onderwerp van die dabat was:  Het Jesus gesê dat Hy God is?  Jesus het nie net gesê dat Hy God is nie, maar dat Hy die ware en enigste God is.  Wat Hy in Eksodus 10 gedoen het bewys dit.

Die tien plae: Pes, swere en hael

Sphinx

In Desember 1998 het ek en ‘n vriend vir twee weke in Vryheid gaan preek.  Op weeksdae het ons ‘n vakansie Bybelklub gehou vir kinders.  My vriend het vir die eienaar van die plaaslike SPAR gevra of ons dit daar kon hou.  Die man het gesê:  ‘Ek is ‘n Moslem en het ‘n groot elektrisiteitrekening.  Wat kan jou God vir my doen?’  My vriend het geantwoord:  ‘Kom saam met my.  Ek sal bid en vir jou wys wat my God kan doen.’  Die man het gou gesê:  ‘Toemaar, ek trek net jou been; ek is ook ‘n Christen.’  Die ware God is nie net ‘n teorie nie.  Hy is ‘n praktiese God wat werk.  Eksodus 9 wys dit.

 

Die vyfde plaag:  Pes (v.1-7)

Hoekom het die Voortrekkers die Kaap verlaat om binneland toe te trek?  In 1793 het die Xhosas 116 plase verwoes en die Afrikaners se beeste gesteel.  Wat het Dingaan van Piet Retief vereis voor hy sou instem om die dokument vir die oordrag van Natal te onderteken?  Retief moes Sikonyela aanval om die 700 beeste wat hy van Dingaan gesteel het, terug te bring.  Wat het Dingaan gedoen na hy Retief en sy geselskap vermoor het?  Hy het hulle families uitgemoor en 25 000 beeste gesteel.  Hoekom?  In hulle tyd en kultuur, soos in die Bybel s’n, was rykdom gemeet aan hoeveel vee jy het – nie aan hoeveel geld jy in die bank het nie (Genesis 30:25-42, Job 1:3, 42:12, Markus 5:11-13).  Vir ‘n hele land se vee om met siekte getref te word is ‘n reuse verlies.

 

Die lewende en ware God van Israel het weer vir Farao gesê om Israel te laat trek.  Indien hy nie wou luister nie, sou die Here Egipte hierdie keer nie net met sy vinger tref nie (8:19), maar met sy hand (v.3).  Hy sou nie dadelik al die vee tref nie, maar net dié wat buite in die veld was (v.3).  Dis hoekom daar in v.19, na die vyfde plaag, nog vee oor was.  Hierdie plaag was ‘n aanval op verskeie gode.  Apis was Egipte se heilige bul-god.  Mnevis was ook ‘n bul-god en die simbool van vrugbaarheid.  Hathor was ‘n koei-godin.  Isis was die koningin van die gode en het koeihorings op haar kop gehad.

 

Die Here sou nie die Israeliete se vee tref nie.  Hy wou wys dat Israel sy volk was, en het ook gesorg dat hulle vee het om in die woestyn te offer.  Die Here het gesê dat die plaag Egipte die volgende oggend sou tref (v.5).  Farao het ‘n dag gehad om tot sy gode te bid, sodat hulle die Here kon keer.  Hy sou weer agterkom dat Jahwe die ware God is.  Farao het iemand gestuur om te sien of die Israeliete se vee die plaag oorleef het.  Selfs nadat dit bevestig is, het hy sy hart verhard.

 

Die sesde plaag:  Swere (v.8-12)

Toe ek in die laerskool was het my pa ‘n groot pitsweer op sy heup gekry:  een met nege koppe (‘n nege-oog of karbonkel).  Dit was ‘n rou seer vol van geel etter.  Blykbaar was dit baie pynlik.  Dit kan met salf genees word.  In die ou dae het mense ‘n glasbottel vol kookwater gemaak en dit weer uitgegooi.  Terwyl die stoom nog uitkom, het hulle die bottel se opening teen die pitsweer gedruk.  Dit het die pitsweer met etter en al uitgesuig.  Kan jy jou indink hoe seer dit sal wees as jou hele liggaam met sulke swere oortrek is?

 

Moses moes hande vol van roet uit die bakoond skep en dit voor Farao in die lug gooi.  Farao moes die wonderwerk voor sy oë sien plaasvind, sodat hy kon weet dat die God van Israel dit gedoen het.  Israel was in Egipte soos yster in ‘n vuuroond (Deuteronomium 4:20).  Is dit nie ironies dat die Here dié plaag uit die vuuroond laat kom het nie?  ‘n Paar hande vol roet het ‘n fyn stof geword wat die land oordek het.  Deur ‘n wonderwerk het God gemaak dat dit in swere verander op mense en diere.  Die gode van towery en genesing –Hike, Imhotep, Sekhmet – kon hulle nie help nie.

 

Die swere was pynlik, ongeneeslik, en dodelik.  Die woord wat hier met swere vertaal word, word ook gebruik van Hiskia se swere.  As die Here hom nie genees het nie, sou hy gesterf het (2 Konings 20:7, 1).  Die woord word gebruik van Job se swere wat hy met ‘n potskerf gekrap het (Job 2:7-8).  Dit het hard geword en dan weer gebreek.  Daar was selfs wurms in die swere (Job 7:5).  Sy vel het swart geword en afgeval.  Die inflammasie het gemaak dat sy bene soos vuur brand (Job 30:30).  In Deuteronomium 28:27, 35, 60 gebruik Moses hierdie selfde woord vir swere.  Hy beskryf dit so:

 

“Die HERE sal jou swaar tref met swere van Egipte en met geswelle en skurfte en uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie… Die HERE sal jou tref met bose swere aan die knieë en aan die bene—waarvan jy nie gesond kan word nie—van jou voetsool tot jou skedel… en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was, sodat hulle jou aanklewe.”

 

Selfs die towenaars is getref en kon nie voor Moses staan nie.  God het Farao se hart verhard, sodat hy nogsteeds nie geluister het nie (vgl. Josua 11:20).

 

Die sewende plaag:  Hael (v.13-35)

Kort na sy bekering het Jonathan Edwards oor weerlig en donderweer geskryf:

 

‘And scarce anything, among all the works of nature, was so sweet to me as thunder and lighting; formerly nothing had been so terrible to me.  Before, I used to be uncommonly terrified with thunder, and to be struck with terror when I saw a thunder storm rising; but now, on the contrary, it rejoiced me.  I felt God, so to speak, at the first appearance of a thunder storm; and used to the take the opportunity, at such times, to fix myself in order to view the clouds, and see the lightnings play, and hear the majestic and awful voice of God’s thunder, which oftentimes was exceedingly entertaining, leading me to sweet contemplations of my great and glorious God.’[1]

 

Edwards het geweet wat alle Christene moet weet – iets wat met ‘n skok voor Farao se neus gehou is:  God beheer die natuur.

 

Moses moes vroegoggend vir Farao by die rivier kry en vir hom sê:  ‘Die Here sê jy moet sy volk vrylaat sodat hulle Hom kan aanbid.’  Voortaan sou God sy plae teen Farao se hart stuur [v.14, Heb. lêb] – ja, die eindste hart wat so verhard was.  So sou die Here wys dat Farao geen god is nie, maar dat Hý die ware God is.  As die Here wou, kon Hy lankal vir Farao en die Egiptenare uitgewis het.  Maar Hy was geduldig en het vir Farao opgewek, sodat Hy sy groot Naam, krag, en heerlikheid kon toon.  Dit moes bekend word dat dit Hy is wat konings oprig en weer neerwerp (Daniël 2:21).  “Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.” (Spreuke 16:4).

 

Die hael sou vroeg die volgende oggend val (v.18, 13).  Dit moet warm wees voordat hael kan vorm en val.  Die warm lug stoot die waterdruppels hoog op tot in die koue atmosfeer.  Daar vries die klein druppeltjie en val dit weer.  Dis nie swaar genoeg om deur die warm lug tot op die aarde te val nie.  Die warm lug stoot dit weer op.  As dit in die koue atmosfeer kom, dan vries daar nog ‘n lagie.  So hou dit aan, totdat dit groot en swaar genoeg is om tot op die aarde te val.  In die woestyn is die nagte koud.  As die natuurlike prosesse moes plaasvind, kon die hael nie vroeg in die oggend val nie.  Maar hierdie is ‘n wonderwerk.  God het die hael vroeg in die môre laat val.  Weereens het Hy gewys dat Hy die ware God is.  Volgens v.18, 24 was hierdie Egipte se ergste haelstorm vandat dit ‘n nasie geword het.  Egipte het eers na die vloed in Genesis 10:6, 20 ‘n nasie geword.  Die ergste storm voor dié een was die vloed.

 

God het ‘n finale waarskuwing gegee en hierdie keer barmhartigheid bewys:  “Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie binnekant gebring is nie—op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe.” (v.19).  Die Egiptenare wat God se woorde gevrees het, het gou opgetree en hulle vee ingebring (v.20).  Die res se vee en slawe is doodgeslaan (v.21).  “Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie, sal die gevolge dra; wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk.” (Spreuke 13:13, NAV).

 

God het donderweer, weerlig en hael gestuur en alles getref.  Wingerde, wildevy, en ander bome is deur die hael verwoes.  Nie net die hael nie, maar ook weerlig het skape en beeste doodgeslaan (Psalm 78:47-48, 105:32-33).  Die Israeliete in Gosen is nie getref nie; hulle het in rus en vrede gewoon (v.26, Jesaja 32:18).

 

Farao het vir Moses geroep:  ‘Hierdie keer het ek teen die Here gesondig.  Die Here is reg.  Ek en my volk is verkeerd.  Vra die Here om die donderweer en hael weg te vat – ek sal die volk laat gaan!’  Sien jy die implikasie van die woorde ‘dié keer’?  Hy sê eintlik dat hy nie die vorige kere verkeerd was en gesondig het nie.  Hy is nie regtig jammer oor sy sonde nie, maar hou net nie van die aaklige gevolge nie.

 

Moses het gesê dat hy vir die Here sou vra om die hael te stop nadat hy uit die stad uit was.  So sou Farao sien dat die hael nie vir Moses tref nie, en dat die aarde aan die Here behoort (vgl. Josua 10:11, Psalm 24:1).  Moses het geweet dat Farao nie die Here gevrees het nie; dat hy ‘n leë belofte gemaak het en nie die volk sou vrylaat nie.  Hulle ongehoorsaamheid in v.21 het bewys dat hulle nie die Here gevrees het nie.

 

Die hael het die vlas en gars weggeslaan.  Die Egiptenare het vlas gebruik om hulle wêreld bekende Egiptiese linne te maak.  Die ekonomie was in sy kanon in.  Die koring en spelt het nog nie opgekom nie en was veilig.  Maar ook dít sou binnekort deur die sprinkane vernietig word.  Die Egiptiese godin Nut het die hemelruim voorgestel.  Shu het die hemel in plek gehou, en Tefnut was die godin van vog in die atmosfeer.  Hulle was veronderstel om die weer te beheer, maar kon nie teen die Here staan nie.  Geb was die god van landbou en Seth die god van oeste.  Hulle kon nie Jahwe se hand van oordeel keer of terugdraai nie.

 

Toe God die hael gestop het, het Farao sy hart verhard en sy belofte gebreek – net soos die Here gesê het.

 

Wat is die groot les wat ons uit hierdie drie plae leer?  God is soewerein oor pes, siekte, en die weer.  Na 2004 se tsunami het ek in ‘n preek gesê dat God soewerein is.  Iemand wat die preek gehoor het, het gesê:  ‘Om te sê dat God die tsunami gestuur het, is Godslastering.’  Die Bybel sê egter dat God hierdie dinge beheer.  Verse wat wys Hy is soewerein oor siekte is die volgende:

 

  • “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?” (4:11).
  • “Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie… Ook het al sy broers en al sy susters en al sy bekendes van vroeër na hom gekom… en hulle het met hom medelyde gehad en hom vertroos oor al die onheil wat die HERE oor hom gebring het.” (Job 2:10, 42:11). Job het swere gehad. Let op dat Job nie gesondig het deur te sê dat God die slegte dinge oor hom gestuur het nie.
  • “En toe die wolk van die tent af weggetrek het, kyk, toe was Mirjam melaats, soos sneeu. En Aäron het Mirjam aangekyk en—sy was melaats!” (Numeri 12:10). God het vir Miriam gestraf omdat sy vir Moses teëgegaan het.
  • “Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.” (Deuteronomium 32:39).
  • “Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?” (Klaagliedere 3:38).
  • Jesaja 45:7 praat van God wat “die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.”
  • “Maar die hand van die HERE was swaar op die Asdodiete, en Hy het hulle verskrik en hulle getref met geswelle, Asdod en sy grondgebied… Hy het die mense van die stad getref, van die kleinste tot die grootste, sodat geswelle aan hulle uitgebreek het.” (1 Samuel 5:6, 9).
  • “En die HERE het die kind wat die vrou van Uría vir Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het.” (2 Samuel 12:15).
  • “En die HERE het ‘n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentig duisend man gesterwe.” (2 Samuel 24:15).
  • “[as] Ek die plaag van melaatsheid in ‘n huis van die land van julle besitting laat kom” (Levitikus 14:34).
  • “Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (Johannes 5:14). Die implikasie is dat God die man weer kon laat siek word.
  • “Daarom sal die melaatsheid van Naäman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe. En hy het van hom uitgegaan melaats, soos sneeu.” (2 Konings 5:27).
  • “En die HERE het die koning aangetas, sodat hy melaats was tot die dag van sy dood toe” (2 Konings 15:5).
  • “En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.” (Handelinge 12:23).
  • “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.” (1 Korintiërs 11:30). God het die Korintiërs getref omdat hulle die nagmaal misbruik het.
  • “Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.” (Openbaring 2:22-23).
  • “En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.” (Openbaring 6:8). Die teks sê dat die perd en sy ruiter mag ontvang het om die pes te bring. Wie het aan hulle die mag gegee? God (vgl. Job 2:6).
  • “Toe gaan die eerste een [engel] weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.” (Openbaring 16:2).

 

God is ook soewerein oor die weer:

 

  • God het die vloed gestuur (Genesis 6-9). Psalm 29:10 sê: “Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid.”
  • “Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller… Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns… Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte. Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk; en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond: óf tot ‘n tugroede, óf tot nut van sy aarde, óf tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind.” (Job 36:32, 37:6, 10-13).
  • “Maar die HERE het ‘n sterk wind op die see gewerp, en toe daar ‘n groot storm op die see ontstaan, het die skip gevaar geloop om skipbreuk te ly… En met sonop het God ‘n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op die hoof van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag sterwe, en gesê: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.” (Jona 1:4, 4:8).
  • “Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring” (Psalm 148:8).
  • “Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as. Hy werp sy ys heen soos stukke—wie kan bestaan voor sy koue? Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai—die waters loop.” (Psalm 147:16-18).
  • “En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ‘n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” (Openbaring 16:17-21).
  • “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing” (Openbaring 6:12).
  • “Die HERE sal maak dat die pes jou aankleef totdat Hy jou vernietig uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. Die HERE sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy omkom. En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees. Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.” (Deuteronomium 28:21-24).
  • “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie” (Job 1:21-22). Weerlig het Job se skape getref en ‘n stormwind het die huis omgewaai waarin sy kinders gesterf het. Job het nie gesondig deur te bely dat die Here dit gedoen het nie.

 

Moenie praat en vrees asof die natuur soewerein is nie.  Moenie van siekte en rampe sê dat die duiwel gekom het om te steel nie.  Dit is wel so dat God die duiwel soms toelaat om siekte en rampe te bring (Job 1:12, 2:6, Matteus 17:18, Lukas 13:16).  Maar die tekste wat ek hierbo gelys het wys dat God nogsteeds in beheer is van hierdie dinge.  Vir die gelowige sal God siekte en rampe ten goede laat meewerk (Romeine 8:28).  Net die ware God kan dit doen.

 

Wanneer God siekte en rampe oor ongelowiges stuur is Hy geduldig en gee aan hulle ‘n kans om hulle te bekeer (v.20, Romeine 2:4, 2 Petrus 3:9).  As hulle dit nie doen nie, dan sal hulle sterf (v.21).

 

Hoe is God anders as die gode van Egipte as Hy nie soewerein is nie.  As jy bely om ‘n Christen te wees en God se soewereiniteit ontken, dan aanbid jy ‘n afgod.  Die God van die Bybel is soewerein (Psalm 103:19).  As jy sê Satan beheer siekte en rampe, sal jy in vrees lewe.  In teorie glo jy dalk nie dat die duiwel soewerein is nie, maar in praktyk lewe jy asof die duiwel en gode van Egipte so sterk soos die Here is.  Watse troos kan jy hê as jy siek word?

 

Voor 1838 het sendelinge vir 18 jaar geen sukses onder die Zulus gehad nie.  By die slag van Bloedrivier het 464 Voortrekkers 15 000 van die gevreesde en onoorwonne Zulu Impi gedood.  Na dié slag het honderde duisende Zulus tot bekering gekom.  Hoekom?  Hulle het gesien dat hulle gode, toordokters, diktators, en voorvader geeste geen mag gehad het teen die God van die Voortrekkers.  Hulle het besef dat Hy die ware God is.[2]

[1] Iain Murray, Jonathan Edwards: A New Biography, pp.36-37

[2] Peter Hammond, The Day of the Covenant – ‘n praatjie gelewer by die Reformation Society.

Die tien plae: Muskiete en steekvlieë

Plague of gnats

‘n Span sendelinge het na ‘n Chinese eiland toe gegaan om die evangelie te deel.  Die plaaslike volk het gesê dat hulle nie die Christen God nodig het nie, maar dat hulle binnekort ‘n fees vir hulle eie god sou hou.  ‘n Jong man in die span het gesê:  ‘Julle kan nie die fees hou nie, want op daardie dag sal dit reën.’  Dit het inderdaad so gebeur.  Die eilanders het gesê dat hulle die datum verkeerd gehad het, en dat hulle ‘n kort tydjie later die fees sou hou.  Die jong man het weer gesê dat dit op die dag van die fees sal reën.  Die span het gebid dat die Here reën sou stuur.  Op die oggend van die fees het die son geskyn.  Hulle het ernstig gebid.  Baie gou het daar wolke opgesteek en het dit begin reën.  Dit het egter nie die volk gekeer om hulle god uit te dra vir die fees nie.  Maar toe hulle in die modder gly het die afgod geval en gebreek.  Die volk het besef dat Jesus die ware God is en was oop vir die evangelie.

 

Die derde plaag:  Muskiete[1] (v.16-19)

In 1993 is ons gesin Kaapstad toe.  Oppad het ons in Laingsburg oorgeslaap.  Ons het ‘n baie slegte nag gehad met muskiete.  As ek reg onthou het ons meer as twintig muskiete teen die dak en mure doodgeslaan.  Die volgende oggend toe sien ons die prop met muskietgif in die muur.  Hoe erg moet dit wees as muskiete, soveel soos die stof van Egipte, in jou ore zoem?  Volgens v.17 het “Al die stof van die aarde…muskiete geword in die hele Egipteland.”  Onthou dat Egipte grootliks woestyn is.  Daar was BAIE muskiete.  Hulle het mense en diere geteister.  Selfs as dit muggies was moes dit erg gewees het:  muggies in jou oë, ore, mond, en neus.  Die towenaars kon nie muggies uit die lewelose stof skep nie.  Hulle het besef dat hierdie die vinger van God was:  dieselfde vinger waarmee Hy die maan en sterre gemaak het, en duiwels uitgedryf het (Psalm 8:4, Lukas 11:20).  God het gewys dat die Egiptenare se gode van die aarde (bv. Akhor) Hom nie kon keer om die stof in muskiete te verander nie.  Farao het ‘n veer gevoel en sy hart verhard.

 

Die vierde plaag:  Steekvlieë (v.20-32)

Het jy al die hoede gesien wat party Australiese krieket toeskouers op het?  Daar is toutjies met kurkproppe aan wat van die rante afhang.  Waarvoor is dit?  Dit hou die vlieë uit jou gesig uit.  Daar is baie vlieë in Australië.  Maar toe beeste in 1788 in die land ingevoer is, was dit baie erger.  Die vlieë het siektes versprei.  Baie mense en diere het ooginfeksie gekry.  Toe miskruiers na die land toe gebring is, is die probleem onder beheer gebring.  In 2003 het Bernard Doube van Adelaide in ‘n studie bevind dat miskruiers 99% van die criptosporidium uit beesmis verwyder.  Sodoende het hulle verhoed dat die water besmet word (in 1993 het 400 000 mense in Milwaukee, V.S.A. siek geword en selfs gesterf van water wat só besmet geraak het).

 

Moses moes weer vir Farao by die rivier ontmoet het.  Hy het hom in die Here se Naam beveel om die volk te laat gaan.  Indien hy nie gehoor wou gee nie, sou die Here steekvlieë oor Egipte stuur.  Die Hebreeuse woord is eenvoudig ‘swerms’ en kan na verskeie soorte insekte verwys.  Of dit nou steekvlieë was of gewone vlieë wat siektes versprei – hulle het die land vernietig.  “Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het” (Psalm 78:45).  Die mense in Egipte het die miskruier-god aanbid.  Deur die vlieëplaag het die Here gewys dat dié god nie die mis begrawe het, om so te keer dat die vlieë daarin broei nie.

 

God het gesê dat die Israeliete in Gosen (Genesis 46:34) nie deur die vlieëplaag getref sou word nie.  “Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.” (Maleagi 3:18).  Die implikasie is dat die Israeliete deur die vorige drie plae getref is.  Dit het gebeur omdat hulle saam met die Egiptenare hulle afgode aanbid het.  Die profeet sê:

 

“Op dié dag het Ek my hand vir hulle opgehef, om hulle uit Egipteland uit te lei na ‘n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, wat oorloop van melk en heuning—’n sieraad is dit van al die lande.  En Ek het aan hulle gesê:  Gooi weg, elkeen die verfoeisels van sy oë, en verontreinig julle nie met die drekgode van Egipte nie:  Ek is die HERE julle God.  Maar hulle was wederstrewig teen My en wou na My nie luister nie; niemand het die verfoeisels van sy oë weggegooi of die drekgode van Egipte laat staan nie.  Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn teen hulle te laat uitwoed in Egipteland.  Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies onder wie hulle gewees het nie, voor wie se oë Ek My bekend gemaak het aan hulle, om hulle uit Egipteland uit te lei.  En Ek het hulle uit Egipteland uitgelei en hulle in die woestyn gebring.” (Esegiël 20:6-10).

 

God het nou ‘n onderskeid tussen sy volk en die Egiptenare gemaak.  Hy sou sy volk verlos.  Almal – veral Farao – moes weet dat Israel Sý volk is.  God het gewys dat Hy soewerein is oor lande (vlieë oral in Egipte, behalwe in Gosen), mense (vlieë op die Egiptenare, maar nie die Israeliete nie), insekte (God kon die vlieë stuur en weer wegneem), tyd (God sou dit die volgende dag stuur en wegneem op die tyd wat Hy besluit het).

 

Alles het gebeur soos wat God gesê het.  Farao het vir Moses laat roep.  Hy het hom nie regtig bekeer nie, maar wou eenvoudig van die vlieë ontslae raak.  Sy bekering was dus nie eg nie.  Hy het gesê dat hy die volk sou toelaat om in die land vir die Here te offer.  Hy wou dus nogsteeds die boodskap oordra dat hý soewerein was om die Israeliete te laat gaan of nie.  Hy wou God se gebod kompromeer en was nie bereid om alles te doen wat die Here hom beveel het nie:  ‘Laat my volk drie dagreise ver in die woestyn intrek om My te dien.’  Moses het gesê dat die Egiptenare aanstoot sou neem oor hulle offers en hulle sou stenig.  Hulle kon net sowel ‘n heilige koei in ‘n Hindu tempel slag.  In die dae van Cambyses het die Perse ‘n oorlog teen Egipte gewen.  Hulle het vee voor die weermag laat loop.  Die Egiptiese boogskutters het geweier om te skiet, omdat hulle nie die ‘heilige’ diere wou doodskiet nie.[2]

 

Farao het weer probeer om ‘n middeweg te soek.  ‘Julle kan in die woestyn gaan offer, maar nie drie dagreise ver nie.  Bid net asseblief dat God die vlieë moet wegvat.’ (sien v.28, 8).  Om te wys dat God in beheer is, het Moses gesê dat hy die Here sou vra om die vlieë die volgende dag weg te vat.  ‘Moet ons net nie weer bedrieg nie,’ het Moses vir Farao gesê (v.29, 15).  God het die vlieë weggevat – tot die laaste een.  Maar Farao het sy hart verhard en nie gedoen soos hy belowe het nie.

 

Moenie soos die Israeliete wees en die vals gode van die kultuur aanbid nie.  Laat God se skeppingskrag, oordeel oor sy vyande, en beskerming van sy uitverkorenes bewys dat Hy die ware God is.  Ateïste wil graag bewys dat evolusie stof in muskiete kan verander; dat ‘n klein spikkel ontplof en alles tot stand gebring het; dat lewe uit nie-lewe ontstaan het.  Maar hulle teorie misluk soos die towenaars se wonderwerke (v.18).  Richard Dawkins wil bittergraag hê mense moet glo dat evolusie wetenskap is.  In ‘n debat teen prof. Lennox het hy gesê:  ‘We don’t need to inject miracles like the Bible does.’  Dawkins sal ‘n probleem hê met die stof wat in muskiete verander het, maar glo ateïste nie dieselfde as hulle sê dat ‘n spikkel materie (die Big Bang) oor biljoene jare in ‘n muskiet verander het nie?  Die towenaars het geweet wat Farao en ateïste ontken:  God kan met sy vinger doen wat die gode van Egipte en evolusie nooit kan doen nie (v.19).

 

Trek die masker van evolusie se gesig af en sien dit vir wat dit werklik is:  dit is nie wetenskap nie, maar die vals en kragtelose godsdiens van ateïsme.  Buig jou neer voor die ware God wat wonderwerke kan doen; wat stof in muskiete kan verander.  Sê ‘nee’ vir die vals god van evolusie in jou handboeke, in die koerant, op Nat Geo Wild.  Jy kan nie die God van Genesis 1 en evolusie dien nie.  As jy die Bybel glo moet jy evolusie verwerp en andersom.

 

Die ware God kan die vals gode van hierdie wêreld met sy vinger vernietig.  Charismate oor die algemeen praat asof Satan en God ewe sterk is (alhoewel hulle dit nooit direk so sal sê nie).  ‘n Man in ‘n charismatiese kerk het vir my gesê dat daar geestelike wette is wat soms die Here dwing om te doen wat die duiwel wil hê.  ‘n Ander charismaat het gesê dat die duiwel God se gesag gekry het toe Adam en Eva gesondig het.  God moet dus vir die duiwel toestemming vra as Hy in die wêreld wil inkom.  Dis vals lering.

 

Jesus is die ware God.  Hy oorwin die demone en Beëlsebul (‘n ander naam vir Satan wat letterlik ‘god van die vlieë of mis’ beteken) met sy vinger.  “En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit?  Daarom sal hulle jul regters wees.  Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom.” (Lukas 11:19-20).  Jesus het die regeerder van hierdie wêreld oorwin deur die ‘swakheid’ van sy kruisdood (Johannes 12:31-32).  Met ‘n woord red Jesus sy uitverkorenes uit die slawerny van die duiwel – die god van hierdie wêreld (2 Korintiërs 4:4, 6).  As jy op Jesus vertrou sal Hy jou red.  As jy die duiwel volg sal Hy jou saam met die duiwel vernietig (Efesiërs 2:2-3).  Die vals gode van hierdie wêreld kan jou nie red nie.  As jy hulle aanbid dan nooi jy God se toorn uit om jou te vernietig.

 

Die Filistyne het die ark van God gesteel en dit in die tempel van Dagon, hulle god, gesit.  Die volgende oggend het Dagon op sy aangesig voor die ark gelê.  Hulle het hom regop gesit, maar die volgende oggend het hy weer voor die ark gelê.  Hierdie keer het sy kop en hande afgebreek.  God het ‘n plaag onder die Filistyne laat uitbreek.  Duisende het gesterf.  Hulle het die ark na ‘n ander stad toe gestuur, maar dieselfde het daar gebeur.  Uiteindelik het hulle die ark teruggestuur Israel toe.  Dit was duidelik dat Jahwe die ware God was (1 Samuel 5-6).  ‘n Skaakspel tussen God en die gode is nooit ‘n gelyke wedstryd nie.  Die ware God wen altyd.  Die gode van die nasies is nikswerd en dood.

[1] Die presiese betekenis van die Hebreeuse woord is onseker.  Dit kan muskiete, muggies, of luise wees.

[2] Alan Cole, Tyndale Old Testament Commentaries: Exodus, p.95

Die tien plae: Bloed en paddas

Water turned to blood

Toe John Paton op Tanna was, het drie van die eiland se Heilige Manne gesê dat hulle nie in sy God glo of sy hulp nodig het nie.  ‘Ons het mag oor lewe en dood, siekte en gesondheid, droogte en reën.  As ons ‘n stukkie kos kan kry wat jy geëet het, kan ons jou deur towery doodmaak,’ het hulle gesê.  Hy het drie pruime gevra van die vrou wat langs hom gestaan het.  Hy het ‘n hap uit elke pruim gevat, dit vir die Heilige Manne gegee, en voor almal gesê dat hulle hom deur towery moes probeer doodmaak.  ‘I deny that they have any power against me, or against any one, by their Sorcery,’ het hy gesê.

 

Die inboorlinge het weggehardloop.  Paton het bly staan om hulle bygelowige rituele dop te hou.  Soos wat hulle aangegaan het, het Paton uitgeroep:  ‘Be quick!  Stir up your gods to help you!  I am not killed yet; I am perfectly well!’  Toe hulle na ‘n lang tyd niks kon regkry nie, het hulle gesê dat hulle al hulle Heilige Manne nodig het, en dat hulle hom teen die volgende Sondag deur hulle towery sou doodmaak.  Paton het ingestem.  Die volgende Sondag het hy in perfekte gesondheid na hulle toe gekom.  Die Heilige Manne het erken dat hulle hom nie deur hulle towery kon doodmaak nie, maar het gesê dat hy ook ‘n Heilige Man was, en dat sy God sterker was as hulle gode.  Paton het die geleentheid gebruik om vir hulle te sê dat syne die ware en lewende God is, en dat Hy die gebede hoor van almal wat Hom dien en liefhet.[1]

 

Is dit nie die les van die tien plae (Eksodus 7-12) nie:  Jahwe is die ware God?

 

Die eerste plaag:  Bloed (7:14-25)

Op 16 Desember 1838 het 464 Voortrekkers, gelei deur Andries Pretorius, 3000 Zoeloes by die Ncomerivier in Natal, doodgemaak.  Geen boere is dood nie.  Die Zoeloes se bloed het die water rooi gevlek, sodat die plek bekend geraak het as Bloedrivier.

 

In Moses se tyd het die Nylrivier rooi geword, maar dit was nie deur mense se bloed nie (soos wat die nuwe Exodus film valslik uitbeeld).  God het die rivier in bloed verander om te wys dat Hy vir Farao, die Egiptenare, en hulle gode sou doodmaak.  Hulle het die bloed van God se volk vergiet (1:22), en daarom sou Hy húlle bloed vergiet.

 

Moses het die staf in sy hand geneem om die verharde koning by die rivierwal te ontmoet.  Hy was seker daar om vir Hapi, die Nyl-god, te aanbid.  Dis nie per toeval dat Moses hom by die Nyl moes ontmoet nie.  God het dit so beplan, sodat Farao kon sien hoe sy ‘god’ in bloed verander.  Die Egiptenare het geglo dat Hapi die bron van alle lewe was.  Vir hulle was die god Khnum die beskermer van die Nyl.  In hulle gedagtes was die Nylrivier Osiris se bloed en are.  God het die Nyl in bloed verander en so gewys dat hierdie gode geen mag teen Hom het nie.  Die vis – ‘n hoof voedselbron in Egipte – sou doodgaan en stink (is daar iets wat so sleg ruik soos vrot vis!?).  Dit sou vlieë lok en siektes veroorsaak.  Hathor en Neith was veronderstel om die vis te beskerm, maar kon nie voor Jahwe se mag stand hou nie.  Die Egiptenare sou nie die water kon drink nie.  Selfs die water in die klip en hout kruike sou in bloed verander.  Dit bewys vir ons dat dit regte bloed was, en nie maar net alge of rooi modder wat gemaak het dat die rivier soos bloed lyk nie.

 

Moses het die wonderwerk voor Farao en sy diensknegte gedoen.  Almal moes weet dat Gód hierdie wonderwerk gedoen het.  Die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen.  Maar as hulle regtig so magtig was, hoekom het hulle die probleem vererger en nie weggevat nie?  Waar het hulle buitendien water gekry as Moses reeds al die water in bloed verander het?  Die koning se hart is verhard.  Hy het ‘n veer gevoel en in sy paleis ingestap.  Die Egiptenare het langs die rivier gegrawe om ondergrondse water te soek.  Indien die water nie regtig bloed was nie, maar net deur rooi alge of modder gekleur was, kon die Egiptenare met kruike water geskep het, en gewag het tot die modder na onder sak.  Dis duidelik dat die water regtig in bloed verander het.  Hulle het vir sewe dae nie water gehad nie.  Kan jy jou indink hoe dit moes voel in die warm Egiptiese son?

 

Sien die goedheid en strengheid van God raak in hierdie rivier van bloed.  Die ware God sal geregtigheid laat geskied en verligting bring vir sy kinders wat doodgemaak word deur Moslems, Kommuniste, en ander.  Hulle wat die bloed van sy kinders vergiet se bloed sal vergiet word.  In die boek Openbaring lees ons die volgende:

 

  • “En hulle [die martelare] het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?” (6:10).
  • “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.” (17:6).
  • “hulle [die twee olyfbome] het mag oor die waters, om dit in bloed te verander” (11:6).
  • “En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien.” (16:4-6).

 

Dalk maak jy nie Christene dood nie, maar as jy teen Jesus rebelleer sal Hy jou bloed vergiet.  Weer sê Openbaring:

 

  • “En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, twee honderd myl ver.” (14:20).
  • “En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God… En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.” (19:13, 15).

 

Laat die bebloede Nylrivier jou waarsku om nie te rebelleer en jou hart te verhard nie.  Bekeer jou.  Vertrou op Hom wie se bloed soos ‘n rivier gestroom het aan die kruis, sodat jou bloed nie hoef te vloei nie.  As jy die waarskuwing van jou gewete ignoreer, sal God jou hart verhard, sodat jy geen kans meer het om jou te bekeer nie.

 

Die tweede plaag:  Paddas (8:1-15)

In Nelspruit het ek by ‘n oom gekuier.  Hy het vir my gesê:  ‘As ‘n padda by daardie deur inkom en ‘n slang by die ander een, dan hardloop ek verby die slang om weg te kom van die padda.’  Nie almal is só bang vir paddas nie, maar baie mense is bang vir hulle en deel die oom se sentiment.

 

Vir ‘n volk wat bygelowig was oor paddas, moes ‘n plaag van paddas baie erg gewees het.  Dink net daaraan:  slymerige paddas in jou bed, oond, klere, en kosbakke.  Die paddas het seker in die riete en modder geskuil toe die Nyl in bloed verander het.  Nou was hulle oral.  Dit moes aaklig wees om op paddas te trap of deur party soorte paddas gebyt te word (brulpaddas kan byt).  Deur hulle toorkunste het die towenaars dieselfde gedoen, maar weereens het hulle net die probleem vererger, en kon hulle nie die plaag wegvat nie.  Farao het belowe om Israel te laat gaan indien Moses vir God sou vra om die paddas weg te vat.  Toe Moses vir hom ‘n tyd vra, toe sê hy:  ‘Môre.’  Hy het in sy hart gehoop dat die paddas intussen self sou weggaan.  Die godin Heqt, die vrou van Khnum, was veronderstel om die paddas onder beheer te hou.  Maar sy kon nie teen Jahwe staan nie.  “Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie.” (Psalm 86:8).

 

God het Moses se gebed verhoor en die volgende oggend al die paddas wat op die land was doodgemaak.  Net die paddas wat in die rivier was, het oorgebly.  Wat is erger:  ‘n lewende padda of ‘n dooie een in jou bed en kos bakke?  Die Egiptenare het die paddas in hope versamel.  Die land het gestink.  Dit het seker swerms vlieë gelok.  Toe Farao sien dat die plaag weg was, het hy sy hart verhard en sy belofte gebreek.  Hy het nie die volk laat gaan nie.  God het dit so bewerk, sodat Hy nog plae kon bring en sy Naam in die hele aarde kon verheerlik (9:16).

 

[1] Moenie die ware God en afgode aanbid nie.  Die God wat kan skep, verlos, die toekoms voorspel, gebed beantwoord, praat, wonderwerke doen, ander gode oorwin, en Homself verdedig is die ware God.  Aanbid Hóm.  Die Skrif sê:

 

  • “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” (Deuteronomium 6:4). Daar is net een God.
  • “Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jy gehoor het, en in die lewe gebly? Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het? Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie… daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die HERE God is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie.” (Deuteronomium 4:33-35, 39). Die ware God praat met sy volk, oorwin die ander gode, doen wonderwerke, oordeel die nasies, en verlos sy volk.
  • “Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is; ja, doen goed of doen kwaad, dat ons verbaas kan staan en dit saam kan sien.” (Jesaja 41:23). Die ware God kan die toekoms voorspel.
  • “Ek, Ek is die HERE, en daar is geen Heiland buiten My nie.” (Jesaja 43:11).
  • “So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie…. Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! Het Ek jou dit nie lank tevore laat hoor en te kenne gegee nie? En júlle is my getuies! Is daar ‘n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie.” (Jesaja 44:6, 8).
  • “Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie” (Jesaja 45:5-6).
  • “Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God! —wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie. “ (Jesaja 45:18).
  • “Verkondig en bring voor, ja, laat hulle saam raad hou: Wie het dit van ouds af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, die HERE, nie? En buiten My is daar geen ander God nie: ‘n regverdige en reddende God is daar buiten My nie. Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie.” (Jesaja 45:21-22).
  • “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).
  • “Wil júlle vir Baäl veg? Of wil julle hom help? Die wat vir hom veg, sal vanmôre nog gedood word. As hy ‘n god is, laat hy vir homself veg, omdat hy sy altaar omgegooi het.” (Rigters 6:31). Hoekom moet die Moslems vir Allah veg as iemand hom sleggesê het? As hy ‘n god is, kan hy mos vir homself veg, nie waar nie?
  • “En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: o Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het. En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos ‘n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie… …En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek.” (1 Konings 18:26-29, 36-38).
  • “Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit—Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.” (Jeremia 10:11-12).

 

[2] Moenie praat asof daar ander verlossers is wat gelyk is met Jesus nie.  Hy is die enigste Verlosser (Johannes 14:6, Handelinge 4:12).

 

[3] Begrawe jou afgode (Genesis 35:2-4).  Raak ontslae van dit wat vir jou belangriker geword het as Jesus:  geld, besittings, seks, kos, familie, sport of watookal.  Naas Hom moet jy geen ander gode hê nie (Eksodus 20:2).  Hoe lank sal jy aanhou om God en jou afgode te dien?  Besluit wie jy wil dien (Josua 24:14-15, 1 Konings 18:21).  Jy kan nie God en jou afgode dien nie; “want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag.” (Matteus 6:24).

 

In die vierde eeu na Christus het was daar ‘n biskop genaamd Arius.  Hy het nie geglo dat Jesus volkome God is nie.  Hy het voor keiser Konstantyn gekom en onder eed gelieg deur te sê dat hy nie aan enige vals leringe vashou nie; dat Alexander nie rede gehad het om hom uit die kerk uit te sit nie.  Die keiser het vir hom gesê:  ‘As dit wat jy glo ortodoks[2] is, het jy ‘n ware eed afgelê; maar as dit wat jy glo vals is en jy valslik gesweer het – mag die God van die hemel jou oordeel.’

 

Eusebius, die biskop van Nicomedia, wou met geweld vir Arius terugbring in die kerk in.  Maar as gevolg van Arius se dwaling het Alexander geweier.  Eusebius het gesê dat hulle die keiser se toestemming verkry het, en dat Arius die volgende dag in Alexander se gemeente aan die nagmaal sou deelneem.  Alexander het in die kerk ingegaan en tot die Here uitgeroep:

 

‘Laat my sterf eerder as wat Arius môre in die kerk verwelkom gaan word… Sal U asseblief U kerk spaar en nie U erfenis aan verwoesting en skande oorlaat nie?  Verwyder vir Arius, sodat hy en sy dwaling nie in die kerk sal inkom en onheiligheid later as heiligheid beskou word nie.’

 

In groot angs het Alexander by die kerk uitgestap.  Arius het dwase toesprake voor verskeie mense gelewer.  Skielik het hy dood neergeslaan.  Niemand kon ontken dat Jesus die ware God is nie.[3]

[1] John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, pp.140-142

[2] In ooreenstemming met die lering van die Bybel

[3] http://www.ccel.org/ccel/schaff/npnf203.iv.viii.i.xiv.html?highlight=athanasius,serapion#highlight