Die wonderlikste Man in die geskiedenis

Peter swimming to Jesus

Drie Sondae gelede het ‘n klein seuntjie vir my gevra of ek Jesus is. Ek het gelag en mooi vir hom gesê dat ek nie Jesus is nie.  ‘Jesus is God en ek is net ‘n mens,’ het ek vir hom gesê.  As hy oud genoeg was om dié preek uit Jh.21 te volg, sou hy geweet het dat daar ‘n oneindige verskil tussen enige mens en Jesus is.

 

Sy wonderlike voorsiening (v.1-14)

In hfst.20 het Jesus twee keer aan die dissipels verskyn, en in hfst.21 vir ‘n derde keer. Dit het gebeur terwyl hulle by die See van Galilea of Tiberias was (v.1).  Hier is hoe dit gebeur het.

 

Sewe van die dissipels was bymekaar (v.2). Simon Petrus was die nie-amptelike leier.  Dan was daar Thomas die tweeling [Gk. Didumos], opregte Nataniël van Kana in Galilea (1:48, 2:11), die seuns van Sebedeüs (Johannes en Jakobus, Mt.4:21), en twee ander dissipels (dalk Andreas die broer van Petrus, en Filippus die vriend van Nataniël, vgl. 1:41-42, 46).

 

Simon Petrus het vir hulle gesê hy gaan visvang (v.3). Sommige dink dat hy skaam was, omdat hy die Here verloën het, en dat hy daarom na sy ou beroep toe teruggekeer het.  Maar die teks vereis nie so ‘n interpretasie nie.  Miskien het hy besluit om saam met sy vriende vis te vang, terwyl hulle vir Jesus gewag het (Mk.14:28, 16:7).

 

Na ‘n hele nag op die meer, het die dissipels niks gevang nie (v.3). Teen dagbreek het Jesus op die strand gestaan (v.4).  Weens die swak lig en ook a.g.v. hulle geestelike blindheid, het die dissipels Hom nie herken nie (v.4, 20:14, Lk.24:16).  ‘Kinders (soortgelyk aan ‘n rugby kaptein wat sy span boys noem), het julle enige vis gekry?’ het Hy gevra (v.5).  ‘Nee,’ het hulle Hom geantwoord (v.5).

 

‘As julle die nette aan die regterkant van die boot laat sak sal julle iets vang,’ het Hy gesê (v.6). Ek wonder wat hulle gedink het?  Hoekom sou die visse gebyt het as hulle die net vyf meter na regs geskuif het?  Hulle het egter sy raad gevolg (v.6).  Eweskielik was die net so vol van visse, dat die sewe van hulle nie sterk genoeg was om dit in te sleep nie (v.6).

 

Die dissipel vir wie Jesus lief was (Johannes, vgl. v.20-24) het ‘n soortgelyke episode uit die verlede onthou (Lk.5:4-7) en vir Petrus gesê dat dit die Here is (v.7). Om gemakliker te werk het Petrus sy bokleed uitgetrek, maar nou het hy die los ente ingesteek, in die see ingeduik, en na Jesus toe geswem (v.7).  Die ander dissipels het in die boot aangekom en met moeite die net agter hulle aangesleep (v.8).  Hulle was sowat 45 meter van die strand af (v.8).

 

Toe hulle die strand bereik het, het hulle uit die boot uitgeklim (v.9). Jesus het ‘n koolvuur met gebraaide vis en braaibroodjies gereed gehad (v.9).  Waar het Hy dit gekry?  Vir Jesus was dit nie ‘n probleem om vir almal van hulle genoeg brood en vis te voorsien nie (hfst.6!).

 

Die oorvol nette het dit bewys. Jesus het vir hulle gevra om vis uit die nette te haal, sodat almal genoeg kon eet (v.10).  Petrus het op die boot gestaan en die net na die kant toe gesleep (v.11).  In v.6 kon sewe van hulle dit nie insleep nie, maar ons moet onthou dat die vis nou in die vlakwater was en dus nie so maklik in die net kon spartel nie.

 

Volgens v.11 was die net nie vol van klein vissies waarmee ‘n mens niks kan doen nie; dit was vol van groot visse, 153 van hulle. T.s.v. die groot hoeveelheid vis het die net nie geskeur nie (v.11, kontr. Lk.5:6).

 

Ons hoef nie soos party mense ‘n simboliese waarde aan die 153 visse te heg nie. Johannes se punt is eerder om te wys dat hy ‘n ooggetuie was, en dat hierdie ’n geskiedkundige boek is.  En as die episode van die 153 visse so is, kan ons ook sy getuienis m.b.t. Jesus se opstanding glo.

 

Jesus het vir die dissipels gesê om nader te staan, omdat die ontbyt gereed was (v.12). Nie een van die dissipels het dit gedurf om vir Jesus te vra wie Hy is nie, omdat hulle geweet het dat dit Hy is (v.12).  Miskien was hulle nogsteeds in verwondering dat Jesus gekruisig is en weer uit die dood uit opgestaan het.

 

Of dalk bedoel Johannes dat hulle geweet het die Man op die strand is Jesus. Sy verskyning na die opstanding, asook die wonderwerk wat Hy nou-net gedoen het, het egter bevestig dat Hy die Here is (v.12).  Niemand van hulle kon dít betwyfel het nie.

 

Hy het brood gevat en vir sy dissipels gegee, en net so ook die vis (v.13). Soos in hfst.13, het die nederige Messias sy dissipels bedien.  Hierdie was die derde keer wat Hy na sy opstanding aan die dissipels verskyn het (v.14).  Dit was nie meer moontlik vir hulle om te twyfel, of om te dink dat hulle ‘n spook gesien het of dat hulle gehallusineer het nie.

 

Jesus is nie meer in sy liggaam by ons teenwoordig nie. Maar sy wonderlike voorsiening wys dat Hy nogsteeds vir ons omgee.  Dit is so dat ons hard moet werk, en dat dit die normale manier is hoe die Here vir ons voorsien (v.3, Eks.20:9, Sp.6:6-11, 10:4-5, 14:23, 28:19, Ef.4:28, 2 Ts.3:6-15).

 

En tog moet ons ook besef ons nie onsself onderhou nie, maar dat Hý die Een is wat in ons behoeftes voorsien (v.3, 6, Mt.6:11). Die hemel, die aarde en die see met al hulle rykdom behoort aan die Here (1 Kron.29:11, Ps.24:1, 50:10-12, Hg.2:8).  Die mens se vermoeë om ryk te word kom van Hom af (Dt.8:18, 1 Kron.29:12, Sp.10:22).

 

Dit is dan dwaas om te dink dat jy nie genoeg sal hê om van te lewe nie, of dat die Here nie in beheer is van jou toekoms, die ekonomie, die weer, jou kinders se opvoeding en die beskikbaarheid van werk nie (Ps.127:2, Mt.6:25-34, Fil.4:19, Heb.13:5). Die Here sal vir sy kinders sorg, selfs wanneer daar ‘n ekonomiese resessie is (Gn.47:4-6, Ps.33:19, 37:19).  Ook as jy in ‘n finansiële krisis is, kan die Here baie maklik gee wat jy nodig het (v.6, 11, Nm.11:21-23).

 

Sy wonderlike vergifnis (v.15-19)

Na die ontbyt het Jesus met Petrus gepraat (v.15). Omdat hy gewankel het en nie rotsvas gestaan het nie (Petrus beteken rots), het Jesus hom ‘Simon’ genoem (v.15-17, vgl. 1:41).  ‘n Paar weke tevore het hy by ‘n koolvuur drie keer vir Jesus verloën (13:38, 18:18).  Nou het hy weer by ‘n koolvuur die geleentheid gehad om drie keer te sê dat hy vir Jesus liefhet (v.9, 15-17).

 

‘Simon, seun van Jona, het jy My lief meer as hulle hier?’ het Jesus gevra (v.15-17). Voor Jesus se kruisdood het Petrus gesê dat hy Hom die meeste liefhet van al die dissipels (Mt.26:33).  Hy het intussen vir Jesus verloën.  Het hy regtig nog gedink dat sy liefde vir Jesus die grootste is?  Dalk wou Jesus ook geweet het of Petrus Hom bo sy suksesvolle vissersbedryf kies (v.15).  Was Jesus vir hom belangriker as tydelike sukses?

 

Petrus het bely dat hy vir Jesus liefhet (v.15-17). ‘U is God en weet alles; U weet dat ek U liefhet’ het hy hartseer gesê (v.15-17, 2:24-25, 16:30).  In die Grieks gebruik Johannes twee verskillende woorde vir liefde.  Ons kan dit soos volg uiteensit:

 

Vers 15: Het jy my lief [agapaō]?… Ja, Here, U weet dat ek U liefhet [phileō].

Vers 16: Het jy my lief [agapaō]?… Ja, Here, U weet dat ek U liefhet [phileō].

Vers 17: Het jy my lief [phileō]?… Ja, Here, U weet dat ek U liefhet [phileō].

 

Volgens party kommentators is agapaō ‘n diep Goddelike liefde, terwyl phileō ‘n sterk gevoel van broederlike liefde is.  In hulle gedagtes het Jesus vir Petrus se totale liefde gevra, maar wou hy nie weer daarin geroem het dat hy vir Jesus só liefgehad het nie.  Gevolglik het hy vir Jesus gesê dat hy Hom broederlik liefhet.  Op die einde het Jesus sy standaard verlaag, en het Hy Petrus se sub-standaard toewyding aanvaar.

 

Persoonlik dink ek nie dat dit die korrekte interpretasie is nie, aangesien agapaō en phileō partykeer sinonieme terme is.  In 3:35 gebruik Johannes agapaō vir die Vader se liefde vir die Seun, en in 5:20 gebruik hy phileō om dieselfde liefde te beskryf.  Hy gebruik ook beide woorde om Jesus se liefde vir Lasarus (11:5, 36), asook sy liefde vir Johannes te beskryf (13:23, 20:2).  Dus kan ons nie sê dat agapaō noodwendig ‘n spesiale soort liefde is, terwyl phileō ‘n laer vlak van liefde is nie.  Buitendien het Petrus ‘ja’ en nie ‘nee’ gesê, toe Jesus vir hom gevra het of hy Hom liefhet nie.

 

Hoe kon Petrus vir Jesus gewys het dat hy Hom liefhet? Hy moes sy lammers en skape opgepas het en in die groenigheid van sy Woord laat wei het (v.15-17, hfst.10, Ps.23, Jes.40:11, Jer.3:15, Hd.20:28, 1 Tm.4:13, 2 Tm.4:2, 1 Pt.5:1-3).

 

Hy moes ook bereid gewees het om in die toekoms sy lewe vir Jesus te gee, en nie weer sy Naam te verloën nie (v.18-19). Toe Petrus jonk was, was hy vry en onafhanklik; hy het gegaan waar hy wil (v.18).  Maar in sy oudag sou hy sy arms uitgestrek het; hy sou vir die Here se onthalwe gearresteer word en met sy lewe betaal het (v.18, 13:36).[1]

 

Toe Jesus klaar met Petrus gepraat het, het Hy vir hom gesê: ‘Volg My’ (v.19, Lk.5:10-11, 9:23).

 

Wat is die een sonde wat jou gewete pla, ‘n donker geheim wat jy nie kan vergeet nie?  Is dit dalk iets wat jy gesê het, iets wat jy nie kan terugtrek nie?  Het jy dalk iets lelik, skelm of onwettig in die geheim gedoen?  Het jy dalk iets teen iemand anders gedoen waarvan hulle nie eers bewus is nie?

 

Hier is hoe jy dit kan regstel:

 

[1] Geen mens kan self sy sonde bedek en sy gewete reinig nie; net die bloed van Jesus kan (Ps.32:1-5, Heb.9:14, 10:22, 1 Jh.1:7, 9). Bely dus jou sonde aan die Here, hou op daarmee, en vra vir Hom om jou te vergewe.  As jy dit nie wil erken nie en dit wegsteek, sal dit met jou sleg gaan.  Maar as jy dit bely en laat staan, sal die Here barmhartig wees (Sp.28:13).

 

[2] As die Here jou vergewe het, moet jy jou bes doen om nie meer daaraan te dink nie. Vra Hom om jou te help (Ps.25:7).  Onthou ook dat Hý dit nie teen jou hou nie, maar dat Hy jou volkome vergewe het (Ps.103:12, Mg.7:19, Jes.1:18, 43:25, 44:22, Heb.10:17).  Omdat dit so is moet jy nie sê:  ‘Ek kan myself nie vergewe nie.’  Om dit te sê is hoogmoedig, omdat jy indirek sê dat jou standaard hoër is as die Here s’n (Hý het jou vergewe, maar jý kan nie).

 

[3] Bely jou sonde aan die persoon teen wie jy gesondig het. As jy sleg van iemand gedink het, hoef jy dit nie aan hom te bely nie, maar net aan die Here (ons is nie Katolieke nie).  As jy direk teen iemand gesondig het, moet jy dit bely (Jk.5:16).  Maak ook restitusie waar dit nodig is (bv. om die gesteelde goed terug te gee).  As jy voor ‘n groep mense teen iemand gesondig het, moet jy dit voor hulle bely.  Iemand het dit só opgesom:  ‘Secret sins, secret confession.  Private sins, private confession.  Public sins, public confession.’

 

Maar wat as die persoon teen wie jy gesondig het dit nie weet nie? Vra die Here vir wysheid.  In sommige gevalle mag jy dalk jou pêrels vir die varke gooi en wat heilig is vir die honde, as jy dit aan iemand bely wat voortaan alles in sy vermoeë sal doen om jou lewe hel te maak (Mt.7:6).  Só ‘n belydenis verheerlik nie die Here nie.  Maar as dit wat jy in die geheim gedoen het groot skade aan die Here se Naam, jou gewete en die gemeente sal maak indien dit uitkom, moet jy dit bely.

 

Sy wonderlike dade (v.20-25)

Terwyl Petrus vir Jesus op die strand gevolg het, het hy omgedraai en die geliefde Johannes gesien wat by die nagmaal naby Jesus gesit het en vir Hom gevra het wie Hom gaan verraai (v.20, 13:24-25). Toe hy hom dan sien het hy vir Jesus gevra:  ‘Maar wat van hom Here?’  Dit is asof hy gesê het:  ‘Johannes is my vriend.  Gaan hy ook ‘n martelaarsdood dood moet sterf soos ek?’

 

Jesus het gesê: ‘My plan is nie dieselfde vir almal nie Petrus.  As Ek wil hê dat hy moet lewe totdat Ek kom, dan is dit My besluit.  Jy hoef nie my planne vir almal te ken nie.  Sorg net dat jy My volg volgens die opdrag en plan wat Ek vir jou gegee het.’  Dit is hoe ons sy woorde in v.22 moet verstaan.

 

‘n Storie het toe onder die gelowiges versprei dat Johannes nie sou sterf nie (v.23). Maar dit is nie wat Jesus gesê het nie.  Hy het gesê:  ‘As Ek wil hê dat hy moet lewe totdat Ek kom, wat het dit met jou te doen?’

 

Dalk het Jesus bedoel dat Johannes nog sou gelewe het as Hy in 70 n.C. in oordeel Jerusalem gekom het (Mt.10:23, 16:28). Of miskien het Hy bedoel dat Hy vir Johannes tot by die wederkoms kon laat lewe het as dit sy wil was.

 

Dit is hierdie Johannes wat dié boek onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het (v.24, 14:26, 16:13-15).  Dit is hý wat ‘n ooggetuie van Jesus se Persoon, lering, wonderwerke, kruisdood en opstanding was (v.24, 20:30-31).  Sy gewete en die Heilige Gees het getuig dat hy die waarheid praat (v.24, 15:27, 19:35).

 

Die dinge wat Johannes oor Jesus geskryf het is nie al wat Hy gedoen het nie (v.25).  Jesus is ook die Een wat die heelal geskep het, wat die wêreld onderhou, en wat baie ander wonderwerke gedoen het (v.25, 1:1-3).  As al die werke van hierdie wonderlike God-mens opgeteken moes word, was die biblioteek van die wêreld nie naastenby groot genoeg nie (v.25, Job 5:9, Ps.40:6).

 

D.A. Carson sê: ‘It is as if John has identified himself (v.24), but is not content to focus on himself… He must close by saying his own work is only a minute part of all the honours due the Son.’[2]

 

En wanneer ons dít besef kan ons nie anders as om hierdie wonderlike Man, hierdie wonderlike God, te volg nie.  Wie is so ryk in sy deernis, liefde, barmhartigheid, genade, ontferming, vergifnis, goedheid, guns en verlossing soos Hy?  Wie is so divers en almagtig in sy dade soos Hy?  Wie kan so volmaak voorsien soos Hy?  Waar is daar ‘n versekeringsmaatskappy, mediese fonds of enigiemand anders wat so persoonlik vir jou welstand en toekoms omgee soos Hy (v.21-22)?

 

Nog nooit in die geskiedenis was daar iemand soos Hy nie, en ook in die toekoms sal daar nie so iemand wees nie. Geen held of wêreldberoemde kan met Hom vergelyk word nie.  Hy is ook nie net ‘n mens met buitengewone kragte soos die fiktiewe Superman en die Avengers nie.  Ons kan ook nie name soos Buddha en Mohammed in dieselfde asem noem as syne nie.  Hy is die unieke, spesiale, een-van-‘n-soort Seun van God (3:16).  Hy is die Messias, die Here wat as die ewige God aanbid moet word (1:1, 5:23, 20:28, 30-31).  En sy Naam is Jesus.

 

[1] Volgens oorlewering is dit presies wat gebeur het. Toe keiser Nero vir Petrus wou doodmaak, het hy uit Rome uit gevlug.  Jesus het langs die pad aan hom verskyn.  ‘Waarheen gaan U?’ het Petrus vir Hom gevra.  ‘Ek gaan om weer gekruisig te word,’ het Jesus geantwoord.  Petrus het toe teruggedraai en is onderstebo gekruisig.  Hy het gesê dat hy nie waardig is om soos sy Here gekruisig te word nie (John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs, pp.12-13).

 

Ons kan nie met sekerheid sê dat dit so gebeur het nie. Maar ons kán sê dat Petrus die Here in sy dood vir Christus se onthalwe verheerlik het (v.19, 1 Pt.4:14-16, 2 Pt.1:14).

[2] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.686

Advertisements

Is jy deel van die Nuwe Eksodus?

New Exodus

Wat is die Nuwe Eksodus? Dit klink soos ‘n kultus of Hollywood se verdraaiing van die geskiedenis van Moses en die Israeliete.  Toemaar, dit is nie; jy kan maar ontspan.  Dit is heeltemal Bybels.  Toe Jesus op die berg van verheerliking was, het Hy met Moses en Elia gepraat oor die uitgang wat Hy in Jerusalem sou volbring (Lk.9:31).  Die Griekse woord vir ‘uitgang’ is exodos.

 

Soos wat die Here vir Moses gebruik het om die Israeliete uit Egipte en deur die Rooi See te lei, het Jesus ons deur sy kruisdood uit die mag van sonde en die duiwel bevry, en sal Hy ons veilig deur die wêreld lei. Dit is o.a. die les wat Johannes in Op.15:1-8 vir ons leer.

 

Die plae (v.1)

Ek het in die Metodistekerk groot geword. Toe ek in gr.3 of 4 was, het die groter klas ‘n toneel oor die tien plae opgevoer.  Dit was vol van kinderhumor.  Met die negende plaag het Farao bv. na sy flits in die donker gesoek.

 

Maar ek wonder hoe dit moes wees om hierdie plae deur te maak? Enigiemand wat die gewig van God se toorn in sulke plae voel, sal verseker nie dink dat dit ‘n grap is nie.

 

En vir Johannes was die groot en wonderlike teken van die sewe engele met sewe plae ook baie ernstig (v.1). Die plae is veronderstel om ons aan Eks.7-12 te herinner, toe die Here plae gestuur om sy volk uit Egipte te verlos.  ‘Maar hoekom praat Johannes van sewe plae en nie van tien plae soos in Egipte nie?’ wonder iemand.

 

Sewe is die volmaakte getal, en dui dus op die volmaakte toorn van God. Reeds in Moses se tyd het die Here gesê dat Hy sy volk sewevoudig met die plae van Egipte sou straf, indien hulle nie opgehou het met hulle sonde nie (Lv.27:18, 21, 24, 28, Dt.28:27, 60).

 

Jerusalem het die nuwe Egipte geword (11:8), sodat die Here haar sewevoudig met sy plae gestraf het (6:1-17, 8:1-9:21, 10:3-4, 11:15-19, 15:1-16:21). Dit het Hy in 70 n.C. gedoen toe Hy die ou verbond, die tempel, die priesters en die offers finaal tot ‘n einde gebring het (v.1, Mt.24:1-3, 34, Heb.7:12, 8:13, 10:9, 19-21).

 

Vir die Jode was dit slegte nuus. Maar vir die res van die wêreld was dit goeie nuus, omdat die verwerping van Israel die redding van die wêreld beteken het (Mt.21:43, Hd.13:45-48, 18:5-6, 28:28, Rm.11:11).  Dié wat in Jesus glo is die ware volk van God, die ware Israel (Rm.2:28-29, 9:4-6, Gal.3:7, 14, 16, 29, 4:28, 6:16, Ef.2:12, 19, 3:6, Tit.2:14, 1 Pt.2:9).

 

Jy is nie deel van God se volk omdat jy ‘n sekere taal praat, in ‘n sekere land bly, aan ‘n sekere kerk behoort, en ‘n sekere velkleur het nie. Ons glo nie in die ou Afrikaner-sakralisme, waarin jy ‘n gedoopte lid van die NG-Kerk (of een van die susterskerke) moet wees en vir die Nasionele Party moet stem om hemel toe te gaan nie.

 

Om deel te wees van die Nuwe Eksodus van die ware Israel, moet jy vertrou dat Jesus die slawe-kettings van jou sonde deur sy kruisdood kan breek (1 Jh.3:8). Jy moet ook glo dat die bloed van God se Paaslam jou teen die plae van sy oordeel kan beskerm.  En as jy hierdie waarheid van Jesus en sy evangelie glo, sal jy waarlik vry wees (Jh.8:32, 34, 36).

 

Die see (v.2)

Wanneer ons ‘n boek soos Openbaring lees en bestudeer, moet ons seker maak dat ons dit reg interpreteer. Om dit reg te kry moet ons onthou dat Johannes baie beeldspraak gebruik het.

 

Ons kan dus nie sê dat daar in die toekoms regte diere met sewe koppe en tien horings op die toneel gaan verskyn nie. Dn.7 leer immers vir ons dat die diere met hulle koppe en horings ‘n simboliese uitbeelding van spesifieke konings en nasies is.

 

En tog moet ons versigtig wees dat ons nie die simboliek te ver voer nie. ‘n Man het eenkeer vir my gesê dat die 666 eintlik ‘n verwysing na die televisie is.  Hoe kan ons dan weet of ons interpretasie van Openbaring korrek is of nie?  Om seker te maak, moet ons dit met die res van die Skrif vergelyk.

 

Johannes het iets gesien soos ‘n see van glas wat met vuur gemeng is (v.2). Dit was in die hemelse heiligdom voor die troon van God (v.2, 5, 4:6, Eks.24:10).  Volgens 1 Kon.7:23-26 en 1 Kron.4:6 was daar ‘n gietyster see in die tempel.  Die priesters wat aan diens gekom het, het hulleself daarin gereinig.  Die punt van die see in v.2 is dan dat dié wat deur Jesus gereinig is, voor God se troon in sy hemelse tempel mag kom.

 

Die see was gemeng met vuur en was dus rooi (v.2). Dit is veronderstel om ons aan die Rooi See te herinner, waar die Israeliete langs die see gestaan het om die Here vir sy verlossing te prys (v.2-3, vgl. Eks.14-15).  Die vuur is simbolies van God se oordeel (v.2, Dn.7:10-11), terwyl die rooi kleur ons aan die bloedbad van 14:19-20 herinner.  God se kinders het nie in die ‘see’ verdrink nie, maar het veilig op die hemelse strand gestaan (v.2).  Hulle het die dier, sy beeld, en die nommer van sy naam oorwin (v.2, vgl. hfst.13).[1]  Wat beteken dit?

 

Hulle het nie aan die versoeking toegegee om in hulle denke en dade soos die wêreld te wees nie (13:16). Hulle het geweier om ‘n inkarnasie of beeld van die dier te wees, en is daarom ekonomies benadeel (13:14, 17).  Maar ten spyte daarvan het die dier nie daarin geslaag om hulle van die Here af weg te draai nie (v.2, 12:11, Mt.24:13).

 

Dit is dan duidelik dat die dier nie die gelowiges oorwin het nie (13:7), maar dat hulle hom oorwin het (v.2, Rm.8:36-37).  Die dood self kon nie hulle redding wegvat nie, maar het hulle dadelik hemel toe gevat.  Daar het God vir hulle harpe gegee, en het hulle Hom vir sy groot verlossing geprys (v.2-3, 5:8, 14:2).

 

Is jy seker dat jy eendag saam met hulle daar sal wees? Is jy deel van die Nuwe Eksodus wat uit die slawehuis van die wêreld verlos is (v.2)?  Of sal die wêreld jou uit die hemel uithou, omdat jy net soos hulle lewe (v.2)?  Dink en doen jy soos die meeste mense by jou skool, werk en die res van die samelewing (Ef.2:2)?

 

Luister jy na dieselfde immorele musiek as hulle? Is jy ‘okay’ met hulle TV programme en films wat sonde goedpraat, solank hulle nie die Here se Naam ydelik gebruik en sekstonele wys nie?  Verskoon jy die immorele romanne wat jy lees deur te sê dat dit darem nie visuele pornografie is nie?

 

Het jy gemaklik geraak met die gay agenda wat in die media gedryf word? Fokus jy meer op die uiterlike as op die innerlike; wy jy jouself daaraan om goed te lyk deur diëte, oefening en gesond eet, terwyl jy nie baie daaraan werk om ‘n goeie karakter en ‘n sterk verhouding met die Here te hê nie?

 

Is jy van sonop tot sononder by die werk, sodat jy, jou huweliksmaat en jou kinders in dieselfde huis bly, maar verby mekaar lewe? Werk jy langer as wat jy moet, omdat jy soos die res van jou mal kollegas vir geld en besittings lewe:  jy het meer as genoeg, maar soek nog?

 

Is jy van dié wat soveel ure by die werk deurbring, dat dit jou gesondheid affekteer? In daardie geval het werk vir jou ‘n afgod geword.  Of dalk is jy van dié wat weet dat jou lyn van werk nooit vir jou die gewenste miljoene gaan gee nie.  Om hierdie rede het jy skuld gemaak wat jy nie kan bekostig nie – jy wil dinge hê wat die Here nie vir jou gegee het nie.

 

Dalk het jy vir die strategie geval wat sê dat jy soveel as moontlik geld kan maak met so min as moontlik moeite. Of miskien is jy uitgevang, omdat die wêreld ‘n Christelike baadjie hiervoor aangetrek het:  hulle het vir jou gesê om genoeg geloof te hê en die rykdom oor jouself uit te spreek.

 

Moenie soos die wêreld wees nie (Rm.12:2). Moet jou ook nie steur aan dié wat luuks lewe, terwyl jy moet sukkel om kop bo water te hou nie (Ps.73).  Kry ‘n langtermyn visie; dink aan die hemelse rykdom wat vir jou voorlê.  Onthou dat die besittings en plesiere van hierdie wêreld agterbly wanneer jy doodgaan (Lk.12:20, 1 Tm.6:17-19, 1 Jh.2:15-17).  Hoekom lewe jy dan asof daar niks meer is as hierdie wêreld nie (Mt.6:19-20, 2 Tm.4:10)?

 

Die lied (v.3-4)

Sommige kerke glo dat ‘n mens net die Psalms en ander skrifberymings moet sing. Ons is nie een van hulle nie.  Maar ons het in ‘n ander strik getrap en tot ‘n groot mate vergeet om Kol.3:16 te gehoorsaam en die Psalms te sing.

 

En as gevolg daarvan prys ons die Here vir sy karakter, vir sy skepping, vir sy verlossing en vir sy voorsienigheid. Maar ons laat na om Hom volgens die Psalms vir sy oordele te prys.  Selfs in die hemel vergeet hulle nie om dit te doen nie (vgl. 19:1-2).

 

Die gelowiges het langs die see gestaan ‘n lied gesing (v.2-3). Dit was die lied van Moses en die lied van die Lam (v.3).  In Eks.14-15 het die Israeliete langs die Rooi See gestaan.  Moses het hulle in sang gelei om die Here te prys dat Hy hulle vyande in die Rooi See verdrink het.  In Dt.32 het Moses weer vir hulle ‘n lied geleer en gesê dat die Here hulle gaan straf, omdat hulle Hom versaak het.

 

In Op.15 het dié wat in die hemel was ook ‘n lied gesing, omdat hulle deel was van die Nuwe Eksodus. Aan die kruis het die Lam sy bruid verlos deur haar vyande in die see van sy oordeel te verdrink.  Dit was vir hierdie groot en wonderlike verlossing wat die Almagtige Here God se kinders Hom geprys het (v.3).  Op grond van sy regverdige en waaragtige karakter het Hy sy vyande geoordeel, omdat hulle sy kinders doodgemaak het (v.3, 6:9-10, 16:6-7, Dt.32:4).  Dit is duidelik dat hulle nie mooi gedink het toe hulle aan die soewereine Koning se bruid gevat het nie (v.3, Sg.2:8).

 

En moet ons nie hierdie groot God vrees en sy Naam verheerlik as Hy selfs die Jode gestraf het toe hulle sy kinders doodgemaak het nie (v.4, 14:7, Jer.10:7)?  Hy alleen is heilig, afgesonder, gans anders, verhewe bo alles en almal, uniek, een-van-‘n-soort, in ‘n klas van sy eie (v.4, 4:8, Eks.15:11, Jes.6:3).  Die nasies sal Hom aanbid, omdat Hy sy regverdige oordele geopenbaar het (v.4, 5:9, 7:9, 21:24, 26, Ps.22:28-29, 67:4-6, 68:32-33, 72:11, 86:9, Lk.13:29).  Sy oordeel oor die Jode het verlossing vir die heidene beteken (sien punt nr.1 hierbo).

 

Ek wonder hoeveel van ons bitterheid sal verdwyn as ons meer aan die Here se oordele dink? As ons aan die ongelowiges dink wat ons beskadig het, en onthou dat hulle vir ewig onder God se verskriklike en almagtige toorn in die hel gaan ly, sal ons hulle jammer kry en vir hulle bekering bid.

 

As ons aan Jesus se kruisdood dink en onthou hoe Hy ‘n grudood vir sy kinders se sondes gesterf het, sal ons nie so haastig wees om vir maande en jare die sonde van ander gelowiges teen hulle te hou nie. Ons sal nie hoogmoedig wees en dink dat ons sonde teen die Here baie kleiner is as die sonde wat ander mense teen ons gedoen het nie.  Ons sal eerder onthou dat ons baie lelike dinge gedoen het, en dat dít die rede vir Jesus kruisdood was.  Ons sal dan die mense wat teen ons gesondig het vergewe, soos wat die Here ons vergewe het (Ef.4:32).

 

Voortaan sal ons besluit om nie meer ander mense te oordeel nie. Ons sal dit vir die Here los, omdat Hy nooit te swaar of te lig oordeel nie (Rm.12:19).  Ons sal nie opstandig raak teen die Here, sodat ons in ons harte sê:

 

‘Het U nie geweet dat hierdie persoon gestraf moet word nie? Hoekom is U so geduldig en onbekwaam om regverdig te oordeel?  As ek die regter was, sou ek ‘n baie beter werk gedoen het!’ (Jk.4:11-12).

 

Soos Jesus, sal ons die sonde wat ander mense teen ons gedoen het in gebed opdra aan Hom wat regverdig oordeel (1 Pt.2:23). Ons sal ons daarby berus dat Hy sal doen wat reg is.

 

Die tabernakel (v.5-8)

Ek het eenkeer ‘n spotprent gesien van God wat op ‘n gemakstoel sit, ‘n bak ‘popcorn’ in sy hand het, en met plesier ‘n film kyk van hoe mense op die aarde swaarkry.

 

Maar dit is ‘n verdraaide beeld van God, omdat dit impliseer dat Hy die oorsaak van ons lyding is, terwyl ons eie sonde eintlik die oorsaak is.  Dit impliseer ook dat Hy nie goeie dinge vir ons gee nie.  En laastens impliseer dit dat ons goeie mense is, en dat God slegte dinge met ons laat gebeur wat ons nie verdien nie.

 

Op.15 wys egter vir ons dat God groot en heilig is, en dat Hy nie sy humeur verloor wanneer Hy sy vyande straf nie. Die straf wat dus in v.5-8 beskryf word is heeltemal regverdig, omdat dit voortspruit uit ‘n begeerte vir wat reg is.

 

Toe die Israeliete in die woestyn was, het God vir Moses gesê om ‘n tabernakel te bou. Dit was ‘n skadubeeld van die hemelse tabernakel (Heb.8:5, 9:23-24).  In v.5 het Johannes gesien hoe die tempel of allerheiligste van die tabernakel van die getuienis oopgemaak word (vgl. 11:19).  Sewe engele het uitgekom (v.6).  Hulle het die sewe plae gehad (v.6).  Soos die priesters in die Ou Testament het elke engel ‘n rein en blink linne kleed met ‘n goue band om sy bors gehad (v.6, vgl. 1:13, Eks.28:39, Lv.16:4).

 

Een van die vier lewende wesens of gerubs (4:6-8, Esg.1) het vir die sewe engele sewe goue bakke [Gk. phialē] vol van die ewige God se toorn gegee (v.7).  Die gelowiges se gebede was in hierdie bakke; in antwoord hierop moes die sewe engele God se toorn oor die kerk se vervolgers gebring het (v.7, 8:3-5, 6:9-11).

 

Soos in die Ou Testament het die tempel vol van rook geword (v.8). Dit was die rook van God se heerlikheid en krag (v.8, 14:11, Eks.19:18, Jes.6:3-4).  En soos in die Ou Testament, kon niemand in die tempel ingegaan het, terwyl die rook van God se heerlikheid dit gevul het nie (Eks.40:34-35, 1 Kon.8:10-11, Esg.10:2-4).  Wat beteken dit?  Niemand kon meer gebid het om God se toorn oor Israel te keer nie; sy besluit was finaal (Jer.7:16, 11:14, 14:11, 15:1).

 

Omdat dit so is, moet jy die geleentheid gebruik terwyl jy dit het. Moenie jouself oortuig dat die Here se geduld nie kan opraak nie.  Moenie vir jouself sê dat jy later jou sonde kan los, en dat jy dit nog net een keer wil doen nie.

 

Moenie dink dat jy van volgende maand af erns sal maak met die Here, of dat jy na die vakansie jou sondige verhouding met verslawing, ‘n getrou man of vrou, ‘n verkeerde vriend, of watse sonde ookal sal los nie.  Moenie langer uitstel om te doen wat die Here al weke, maande of jare gelede vir jou gesê het nie.

 

Die Here wil hê dat jy vandag dinge met Hom moet regmaak.  “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” (Jes.55:6).  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Kor.6:2).  “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.” (Heb.3:15).

 

As jy aanhou om jou ore vir die Here toe te druk, mag die hemelse tempel dalk vol van die rook van sy heerlikheid word, sodat Hy besluit om nie jou gebede te verhoor nie (1 Sm.28:6, Sp.1:28, Jes.1:15, Esg.8:18, Mt.25:10-12, 1 Jh.5:16). Maar as jy vandag tot Hom roep, sal Hy vir jou wys hoe groot sy genade is oor dié wat Hom met hulle hele hart soek, oor dié wat dinge met Hom wil regmaak.

 

Hy sal nie doen wat Exodus International in 2013 gedoen het nie. Exodus International was ‘n organisasie wat in 1976 begin is.  Die doel was om homoseksuele mense uit die slawerny van hulle sonde te bevry.

 

Maar in Junie 2013 het die voorsitter van die organisasie, Alan Chambers, vergifnis gevra dat hulle vir byna 40 jaar die Gay en Lesbian gemeenskap seergemaak het. Hy het verskoning aangebied dat hulle vir soveel jare verkeerd was om te sê dat homoseksualiteit sonde is.[2]

 

Die waarheid is dat Chambers en Exodus International ná 2013 duisende mense gefaal het.  Hulle het verby dié geloop wat in die tronkselle van hulle sonde sit, en vir hulle gesê:  ‘Moenie bekommerd wees as dit vir julle voel of julle in boeie is nie, want eintlik is julle vry.’

 

Die Here is nie so nie. Hy sal baie duidelik vir jou sê dat jy vasgevang is in die vangnet van jou sonde.  Maar dan sal Hy net so gou wees om vir jou te sê dat Hy aarde toe gekom het om die ystertralies van jou sonde oop te buig.  Hy het gekom sodat jy deel kan wees van die Nuwe Eksodus.

 

[1] Om meer oor die dier te verstaan, kan jy die volgende twee preke opsoek: [1] Christene, keiser Nero, en die ANC.  [2] Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666).

[2] Vir meer inligting oor homoseksualiteit kan jy die volgende preke op hierdie blog lees: [1] Sê die Bybel REGTIG homoseksualiteit is sonde? [2] ‘n Reaksie op gay huwelike in die NG-Kerk. [3] ‘n Oplossing vir homoseksualiteit.

‘n Dankgebed vir die reën, vergifnis en beskerming

thanking-god-for-rain

Deur die jare het ek gesien hoe Christene in groot getalle saamtrek om vir reën te bid. Ek het al gesien hoe Christene vas dat hulle geliefdes tot bekering moet kom.  Verlede week het ek ‘n kort video gesien waarin ‘n boer vir Angus Buchan vra om die Christene bymekaar te roep om teen plaasmoorde te bid.

 

Ek kritiseer nie hierdie pogings nie. Maar ek het nog nooit gesien dat Christene ‘n massa saamtrek hou om die Here vir die reën, vir sy vergifnis en vir sy beskerming te dank nie.  Jerry Bridges het gesê:  ‘We are anxious to receive but too careless to give thanks.’[1]  In Ps.65 gee Dawid vir ons ‘n voorbeeld van wat dit beteken om die Here vir sy vergifnis, verlossing en voorsiening te dank.

 

God se vergifnis (v.1-5)

Ek onthou dat ek jare gelede ‘n klein boekie oor stiltetyd gekoop het. Êrens het die outeur gesê dat ‘n mens die Here elke dag vir jou redding en vir Jesus se kruisdood moet dank.  Ek het besef dat ek dit nie genoeg doen nie, en het van toe af probeer om daarop te let.

 

Dawid het dit ook gedoen. Nog voor hy die Here vir sy beskerming en vir reën gedank het, het hy Hom vir sy vergifnis gedank.  Dit is die sentrale boodskap van die eerste klomp verse.

 

Die Here het verdien dat sy volk Hom met stille bewondering [Heb. dûmîyâh] en lofgesange moes prys (v.1-2).  Hiervoor moes hulle na sy tent in Jerusalem of Sion toe gegaan het (v.2).  Hulle moes die geloftes wat hulle in hulle desperate nood gemaak het (‘Here, as U ons vandag help sal ons…’), aan die Here betaal het (v.2, Pd.5:3-4).  Hulle moes Hom geprys het as die Een wat hulle gebede verhoor het (v.2-3, Lk.11:9-10).  Mense uit alle nasies moes Hom hiervoor geprys het (v.3, 67:4-6, 68:32-33, 86:9, Jes.2:2-3, 56:7, vgl. Mt.21:13).

 

Israel het veral rede gehad om die Here te prys, omdat Hy haar sonde vergewe het (v.4). Toe dit vir Dawid gevoel het of sy sonde te sterk is vir hom (v.4, 38:5), het die Here ingegryp en versoening bewerk (v.4, 79:9).  Dit het Hy in die toekoms gedoen toe Hy ook vir Dawid se sonde aan die kruis gesterf het.  Die Ou Testamentiese offers het dit geïllustreer.

 

Dawid het ook die Here geprys omdat Hy vir Israel uitgekies het om naby Hom te wees (v.5, 33:12). Hulle moes nie gedink het hulle verdien dit nie (Dt.7:7-8), maar moes dit as ‘n voorreg en ‘n seën beskou het dat hulle in die Here se voorhowe met Hom gemeenskap kon hê (v.5, 23:6, 27:4, 84:5).  Hier sou sy goedheid en heiligheid hulle versadig het (v.5).

 

Wat leer ons uit v.1-5 van hierdie Psalm? Ons moet die Here vir ons verlossing prys, en Hom dank dat Hy ons uitverkies het (v.1-5).  Is dit iets waaraan jy gereeld dink, of is jy al so gewoond daaraan, dat jy dit vanselfsprekend neem?  Dalk moet jy jouself weer aan die diepte van jou sondige verlede herinner, sodat jy die Here se vergifnis op Golgota opnuut kan waardeer (v.4, 103:10, 12, 130:3-4).

 

Dalk moet jy ook daaraan dink dat God jou nie gered het omdat jy Hom gekies het nie, maar omdat Hy jou gekies het (v.5, Jh.1:12-13, 6:44, 65, 15:16, Rm.8:29-30, 9:11-18).  Hoekom het die Here vir Israel gekies en nie die ander nasies nie?  En hoekom het Hy besluit om jóú te red:  wat maak jóú so spesiaal dat Hy jou gekies het om naby Hom te wees (v.5, Jer.30:21, 1 Kor.1:26-31, 4:7, Ef.2:12-13)?  Dit is pure genade.  As jy dít onthou, sal jy Hom meer wil prys (v.5, 2, Ef.1:4-6).

 

Maar jy moenie net op jou eie die Here vir jou verlossing prys nie; jy moet dit ook saam met ander gelowiges doen (v.1-2). Dit moet vir jou lekker wees om saam met die gemeente te vergader om die Here se goedheid te geniet, en om Hom vir sy heiligheid te aanbid (v.5, Ps.122:1, Heb.10:24-25).

 

Ek dink nie ons besef watse groot voorreg ons het om deur Christus in God se troonkamer in te kom nie (Heb.10:19-22). God se kinders in die Ou Testament sou hulle voortande hiervoor gegee het, maar ons neem dit ligtelik op.  Ons bly maklik van die erediens af weg, omdat tant Sannie van Kakamas vir die naweek by ons kuier, of omdat die aanddiens met ons gunsteling TV-program inmeng.  Gelowiges wat vir geen goeie rede van die Here se huis af wegbly nie (v.5, 1 Kor.3:16), sal nie die vervulling van sy goedheid beleef soos dié wat getrou kom nie (v.5).

 

God se verlossing (v.6-9)

Jannie is 5 jaar oud. Sy pa is sy held.  Hy kan ‘n rugby bal oor die huis se dak skop, en het een keer ‘n kwaai hond met ‘n stok weggejaag.  Hy kan ‘n boom afkap, ‘n sak hondekos met een hand dra en vleis braai.  Hy het eenkeer dwarsdeur die nag Kaap toe gery, terwyl Jannie en sy sussie agter in die kar gelê en slaap het (Jannie weet nie dat sy ma ook gehelp bestuur het nie!).

 

Eendag toe boelie ‘n ander kind vir Jannie by die kleuterskool. Hy was baie bang en het nie geweet of iemand hom kan help nie.  Sy vrese het hom verlam.  Hy het skoon vergeet hoe sy pa ‘n kwaai hond ‘gewen’ het.  As hy dit maar net onthou het, kon hy vir sy pa gevra het om die boelie (en sy pa) uit te sorteer.

 

Net so was dit ook met Israel: as hulle die Here se almag in die skepping onthou het, sou hulle geweet het dat Hy hulle ook teen hulle vyande kan beskerm.  Dit is die boodskap in v.6-9.

 

Terwyl Israel in Egipte was, het hulle in hulle nood tot die Here geroep (v.3, Eks.2:23). Volgens sy regverdige karakter het Hy hulle met vreeslike dade gered, om só die God van hulle verlossing te word (v.6, 106:22, Dt.10:21, 2 Sm.7:23).  Deur sy kruisdood in die toekoms sou Hy ook die Hoop en Verlosser van die nasies aan die eindes van die aarde geword het, die nasies oorkant die see (v.6, 3, 22:28).

 

In die begin het Hy sy almag soos ‘n gordel om sy middel vasgemaak, en het Hy die reusagtige berge gevestig (v.7, 93:1). Omdat daar dan geen einde aan sy mag is nie (v.7, Jer.32:17, 26-17, Lk.1:37, 18:27, Ef.3:20), was dit glad nie vir Hom moeite om Israel van haar vyande te red nie (v.6).  Net soos wat Hy die see stilgemaak het (v.8a, 89:10, 107:29, Mt.8:26), kon Hy Israel se vyande stilgemaak het (v.8b, Jes.17:12-13).

 

Die nasies aan die eindes van die aarde het die Here se groot tekens gevrees en hulle daaroor verwonder (v.9, Eks.15:14-16, Jos.2:10-11). Hy is die God wat elke dag blydskap bring wanneer Hy die son laat opkom en wanneer Hy die maan en die sterre laat uitkom (v.9).  As Hy dan die skepping beheer (v.9), is dit glad nie vir Hom moeilik om sy volk te beskerm nie (v.6).

 

Dit beteken nie dat geen gelowige ooit die slagoffer van ‘n plaasmoord of ‘n verkragting sal wees nie. Die Here het immers gesê dat die wêreld ons gaan verdruk (Jh.16:33, Hd.14:22, 2 Tm.3:12).  En tog weet ons dat die Here eendag teen sy kinders se vyande gaan optree.  Hy sal die duiwel, die Moslems, die Kommuniste en elke ander vyand van sy hemelse Bruid oordeel (v.8b).  Al raas hulle nou soos die golwe van see, sal hulle nooit die Here se kerk oorweldig nie (v.8, Mt.16:18).

 

Ons moet die Here dank dat geen moord of enigiets anders ons van sy liefde kan skei nie (Rm.8:38-39). Dit kan ons nie uit sy hand uit ruk of ons siele beskadig nie, en daarom hoef ons nie in vrees te lewe vir dié wat die liggaam kan doodmaak, maar daarna niks kan doen nie (Mt.10:28, Jh.10:28-29).

 

Die Here kan en sal selfs die slegte omstandighede tot ons voordeel uitwerk, en dit gebruik om ons meer soos Jesus te maak (Rm.8:28-29). Hy sal ons deur die wêreld se landmyne van sonde lei, sodat ons veilig aan die anderkant uitkom (2 Tm.4:18).

 

Ek probeer nie sê dat jy net vir geestelike beskerming moet bid, en dat die beskerming van jou liggaam onbelangrik is nie. Dis reg dat jy teen plaasmoorde en ander misdade in ons land bid.

 

Maar ons moenie van die beskerming van jou siel vergeet nie. Dit help nie dat jou liggaam veilig is omdat jy nou in Australië bly, terwyl jou siel in gevaar is nie (Mt.16:26).  Moet dan nie nalaat om Mt.6:13 te bid (‘Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose’), en dan die Here te dank wanneer Hy jou gebede beantwoord nie.

 

God se voorsiening (v.10-14)

In sy goedhartige liefde het die Here ‘n manier om meer te gee as wat ons nodig het. As Hy klaar vir mense kos gegee het, is daar 12 mandjies vol van vis en brood oor wat hulle nie klaar geëet het nie (Mt.15:20).  Ook as Hy vir ons reën gee, loop die damme oor.

 

Ons weet dat Hy soms ‘n goeie rede het vir waarom Hy die reën terughou. Maar sy normale patroon is om met ‘n oop hand vir die skepping te gee:  “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.” (Ps.145:16).  Dit is ook hoe Dawid dit in v.10-14 gesien het.

 

Dawid het die Here geprys, omdat Hy die aarde met ‘n oorvloed van reën besoek het (v.10, 2). Hy het die dor en arm aarde ryk gemaak (v.10).  Die rivier of kanaal van God wat deur Jerusalem gevloei het (Ps.46:5, Jes.7:3), het vol geword sodat daar genoeg drinkwater was (v.10).  Daar was ook genoeg water vir die koringlande buite die stad (v.10).  Op hierdie manier het die Here vir sy volk brood voorsien (v.10).

 

Met die oorvloedige stortreën het Hy die geploegde lande goed nat gemaak, sodat die harde klonte en riwwe sag geword het (v.11). Hy het die grond met water deurweek en dit vrugbaar gemaak, sodat dit ‘n geseënde oes opgelewer het (v.11).  So het Hy die jaar met sy oorvloed gekroon (v.12).

 

In v.12 het Dawid gesê dat die Here se spore met vettigheid drup. Hy het bedoel dat daar ‘n oorvloed van kos en water is wanneer die Here met sy reënwolke by ‘n plek verbygaan.  Vertalings soos die ESV sê dat die plaaswaens se spore oorloop.  Die waens is so oorlaai dat die koring in die tweespoor paadjies val, terwyl hulle dit na die skure toe aanry.

 

Soos in Botswana se Okavango Delta, het die reën alles verander. Dit wat altyd ‘n woestyn was, was nou weiding (v.13, Job 38:26-27).  Oral het daar waterpoele gelê (v.13).  Soos Namakwaland in die blommeseisoen, het Israel se heuwels haar vrolike blommerok aangetrek, haar Sondag beste om die Here te verheerlik (v.13).

 

Die groen weivelde het ‘n vuil wit woltrui met bruin en swart knope gedra: oral in die veld het skape en bokke die sappige en voedsame gras geniet wat die Here voorsien het (v.14).  En so het die Here deur die skape en die bokke vir sy volk klere, vleis, melk en kaas voorsien.  Hy het ook die valleie met goudkleurige koring oordek (v.14).  Saam met die res van die aarde het die goue koringare in die wind gedans en die Here met lofgesange geprys (v.14).

 

Om op hierdie manier dankbaar te wees is ‘n kenmerk van ‘n ware gelowige (Ps.50:23, Lk.17:11-19, Rm.12:1, Fil.2:14). Kan dit anders wees as die Here jou met soveel oorvloed geseën het?  Hy het jou geseën met alle geestelike seëninge in die hemel in Christus (Ef.1:3).  Hy het jou gekies, gered, vergewe, aangeneem en vir jou ‘n erfdeel in die hemel gegee (v.2-6, Ef.1:4-14).

 

Sy genade is so oorvloedig dat dit al jou sonde bedek (Ps.51:3, Jes.55:7, Rm.5:17, 20). Hy het sy oorvloedige liefde en lewe deur die Heilige Gees in jou hart uitgestort (Jh.10:10, Rm.5:5).  Hy antwoord jou ver bo wat jy kan bid of dink (Ef.3:20).  Die troos wat Hy gee wanneer jy swaarkry is oorvloedig (2 Kor.1:5).  Die reën en kos wat Hy gee is meer as ‘n dag se voorraad, meer as wat jy kan hanteer of nodig het (v.10-14).

 

Die voorregte van die liggaam van Christus, mediese sorg, godsdiensvryheid, die Bybel in ons eie taal, geleenthede om geestelik te groei deur goeie boeke, preke, DVD’s, die internet, konferensies en meer, getuig van die Here se goedheid. Verstaan jy nou hoekom jy nie moet nalaat om die Here te dank wanneer jy in jou stiltetyd bid nie (Fil.4:6, Kol.4:2, 1 Ts.5:17-18)?

 

Mense wat ondankbaar is en alewig kla, dink te veel van hulleself. Hulle dink dat hulle beter verdien, en kla dan as hulle dit nie kry nie.  As jy egter besef dat jy die hel verdien, sal jy dankie sê vir enigiets meer wat die Here jou gee.

 

Om in konstante ondankbaarheid te lewe is ‘n kenmerk van ongelowiges (Rm.1:21). Net soos ons, weet hulle hoe om vir reën en ander dinge te bid wanneer die krisis tref.  Maar wanneer die Here vir hulle deurkom, gee hulle nie vir Hóm die krediet nie.  Hulle prys hulleself en hulle eie vermoeëns, die chirurg wat hulle geopereer het, of die wonderlike tegnologie wat geniale slim mense uitgedink het.  En selfs dít doen hulle nie vir lank voordat hulle weer oor iets anders kla nie.

 

Hulle is soos die minister van water en sanitasie (Nomvula Mokonyane) wat op 7 Nov.2016 vir reën gebid het. Toe die Here op 10 Nov.2016 reën gegee het, toe sê sy:  ‘We didn’t pray for floods, we prayed for rain.  It feels like we were robbed.’

 

So is die wêreld vir jou: wanneer dit droog is kla hulle, en wanneer dit reën kla hulle.  Ek onthou hoe dit heerlik gereën het ná Januarie 2016 se hittegolf.  ‘n Omroeper van ‘n populêre radiostasie in Johannesburg het gekla, omdat ons vir ‘n week nie die son gesien het nie.

 

Moenie soos die wêreld wees nie, maar dank die Here in alle omstandighede – of dit nou te veel gereën het of te min (Ef.5:20, Job 1:21). Laat die Here se antwoord op jou gebede jou aanspoor om Hom te dank, maar ook om te bid dat die Wes-Kaap goeie reën sal kry.

 

Moet asseblief nie dink dat sommige plekke in ons land nog droog is, omdat hulle groter sondaars is as ons nie. “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.” (Lk.13:3, 5).

 

As ons ons nié bekeer en glo dat Jesus Christus die enigste Verlosser van sondaars is nie, sal die lieflike reën wat ons oor die afgelope vier maande geniet het, ‘n getuie teen ons wees op die oordeelsdag. Die reën sal jou daaraan herinner “dat dit [God] is wat die goeie dinge gee:  Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” (Hd.14:17, NAV).

 

Ek wil jou aanspoor om die Here vir sy vergifnis, verlossing en voorsiening te vra. Moet asseblief nie terughou of skaam wees nie; die Here gee graag.  Maar wanneer Hy hierdie dinge gegee het, moet ons nie nalaat om Hom daarvoor te dank nie.

 

[1] The Practice of Godliness, p.101

Kan die Here my vergewe?

Will God forgive me

Ek het al meer as eenkeer in my lewe gehoor hoe mense sê: ‘Die Here kan my nie vergewe nie.’  In Jh.7:53-8:11 wys die Here vir ons dat dit verkeerd is om so te dink.  Dit ís so dat hierdie gedeelte nie in die beste en oudste manuskripte van Johannes voorkom nie.[1]

 

Dit lyk of die skryfstyl beter by Lukas pas as by Johannes. Tog aanvaar ons dat dit deel van God se geïnspireerde Woord is.  As ons dit met die res van die Skrif vergelyk, dan sien ons dat dit soos ‘n legkaart pas, en dat die Jesus wat hiér beskryf word, die ware Jesus van die Bybel is.

 

Die hof (7:53-8:2)

Ek het in ‘n video op YouTube gesien hoe ‘n jong Skotse man tydens ‘n erediens na John MacArthur toe stap, en sy lering oor die gawes begin verdoem. Deur sy geskreeu het hy die erediens ontwrig.  Jesus het ‘n soortgelyke ondervinding gehad toe Hy in die tempel besig was om die volk te onderrig.  Die Joodse leiers het ingewals, en die tyd van Bybelse onderrig in ‘n hofsaak verander.

 

Jesus was waarskynlik vir een of ander Fees in Jerusalem. Aan die einde van elke dag het die mense wat daar gebly het, na hulle huise toe gegaan (7:53).  Omdat Jesus nie ‘n huis in Jerusalem gehad het nie, het Hy oos van die stad na die Olyfberg toe gegaan (8:1, Sg.14:4).  Hy het moontlik by Lasarus, Maria, en Marta aan die oostelike helling van die Olyfberg in Betanië gebly (11:1, 18, 12:1, Lk.19:29).  Of dalk het Hy op die berg oornag en in die oggend weer na die tempel toe teruggekeer (8:1-2, 18:1-2, Lk.21:37-38, 22:39).

 

Jesus was vroeg in die oggend by die tempel (8:2, Lk.21:38), omdat Hy vir so lank as moontlik God se Woord vir die mense wou leer. Hulle het na Hom toe gekom, omdat Hy met gesag gepraat het (7:14-15, Mt.7:28-29, Mk.12:37, Lk.4:22).  Volgens die gebruik van die tyd het Jesus gaan sit om die mense te leer (8:2, Lk.4:20, Mt.5:1).  Omdat Hy vir ‘n volle dag die mense onderrig het, sou dit Hom moeg gemaak het om die hele tyd te staan.

 

Die beskuldiging (8:3-6a)

My vrou het dié week vir my iets gewys wat sy op Facebook gesien het. Die vraag was:  ‘Are you childish?’  Onderaan is daar ‘n blokkie waar jy ‘yes’ of ‘no’ kan merk.  Die ‘yes’ blokkie lyk normaal, terwyl iemand met inkleur potlode ‘n huisie en boompie oor die ‘no’ blokkie geteken het.

 

Dit laat my dink aan mense wat vra of jy nog jou vrou slaan. As jy ‘nee’ sê dan beteken dit jy het haar geslaan, en as jy ‘ja’ sê dan beteken dit dat jy haar slaan.  Dit is wat die Jode in 8:3-6a met Jesus gedoen het.

 

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het ‘n vrou na Jesus toe gebring (8:3). Volgens hulle het hulle haar betrap dat sy egbreuk pleeg (8:3-4).  Daar het sy voor Jesus, die leiers, en die volk gestaan (8:2-3):  skuldig, kwesbaar, skaam en bang.  Die wet van Moses het gesê dat sulke vroue met die dood gestraf moes word (8:5, Lv.20:10, Dt.22:22).  Die Joodse leiers was gereed om haar te stenig, en het nie eers probeer om vir haar ‘n regverdige verhoor te gee nie.

 

Omdat Jesus ‘n rabbi of leermeester was (8:2), wou hulle gehoor het wat Hý oor haar sê (8:4). Indien Hy gesê het dat sy gestenig moet word, sou hulle gesê het dat Hy sonder genade is.  Die Romeine sou Hom vasgetrek het, omdat hulle wet nie vir die Jode toestemming gegee het om iemand ter dood te veroordeel nie.  Indien Jesus gesê het dat sy nié gestenig moes word nie, sou die Joodse leiers gesê het dat Hy die wet van Moses breek.  Hy was waarlik tussen die duiwel en die diep blou see.

 

Duidelik het dit nie vir hulle oor geregtigheid gegaan nie, maar oor ‘n begeerte om vir Jesus uit te vang (8:6). As hulle geregtigheid gesoek het, sou hulle volgens Dt.22:22 nie net die vrou nie, maar ook die man na Jesus toe gebring het.  Dit verg immers twee mense om egbreuk te pleeg.  Die Jode het slegte motiewe gehad.  Hulle het geweet dat Jesus simpatie gehad het met prostitute en sondaars (Lk.7:36-50), en het gehoop om Hom in hulle net te vang (8:6, Mt.16:1, 19:3, 22:15, 35, Lk.11:53-54).  Hulle was nie eintlik van plan om die vrou dood te maak nie, maar vir Jesus (8:6, 7:1, 25).

 

Die uitspraak (8:6b-8)

Daar is ‘n Afrikaanse spreekwoord wat sê: ‘Die skrif is aan die muur.’  Dit beteken eenvoudig dat dinge só teen jou gedraai het, dat daar nie meer vir jou uitkom kans is nie.  Die spreekwoord is gebasseer op Dn.5 waar die bose koning Belsasar gesien het hoe ‘n mens se hand teen die muur skryf.  Hy was vreesbevange en het vir Daniël gevra om die skrif te vertaal en uit te lê.  Daniël het vir die koning gesê dat sy dae getel is, en dat God sy lewe tot ‘n einde gaan bring.  In 8:6b-8 sien ons hoe dieselfde vingers op die grond geskryf het.

 

Omdat Jesus nie ‘n aardse regter was nie, het Hy hulle beskuldiging geïgnoreer (Lk.12:14). Hy het afgebuk en op die grond geskryf (8:6b).  Ons weet nie wat Hy geskryf het nie, en kan maar net raai.  In Jer.17:13 sê die Here dat Hy die name van dié mense wat Hom verlaat het, in die grond sal skryf.  Soos name wat op die strand geskryf is gou verdwyn, sou ook hierdie mense nie onthou word nie.

 

Sommige ou geskrifte sê dat Jesus hulle sondes in die grond geskryf het.[2]  Job 13:26 sê:  “For you write bitter things against me and make me inherit the iniquities of my youth.” (ESV).  In die Romeinse howe het die regter die oortreder se straf neergeskryf en daarna afgelees.[3]  Dalk is dít wat Jesus in 8:6b-7 gedoen het?

 

Die Jode was nie tevrede met Jesus se stilte nie, en het Hom gedruk vir ‘n antwoord (8:7). Hy het opgestaan, hulle in die oë gekyk, en vir hulle ‘n smakie van hulle eie medisyne gegee.  ‘Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi,’ het hy gesê (8:7, Dt.17:7).  Sodoende het Hy die wet van Moses eerbiedig en gewys dat húlle die oortreders is.  Indien hulle klippe opgetel het om haar te stenig, het hulle daardeur gesê dat hulle sondeloos is.  En indien hulle haar nié gestenig het nie, het hulle erken dat hulle self skuldig is (Rm.2:1, 21-22).

 

Die feit dat hulle haar uitgevang het waar sy met haar sonde besig was, het gewys dat hulle in hulle harte en gedagtes egbrekers was (Mt.5:27-28). Ook hulle onbybelse oortuiging en praktyke m.b.t. egskeiding het gemaak dat hulle egbrekers was (Mt.19:3, 9).  Hulle sonde was erger as die vrou s’n, omdat hulle probeer het om die Messias uit te vang en dood te maak.  Jesus het weer afgebuk en op die grond geskryf, asof hulle beskuldiging teen Hom geen basis gehad het nie (8:8, 46).

 

Die verdaging (8:9-11)

In die vroeë kerk het Augustinus gesê dat party mense hierdie storie uit die vroeë manuskripte verwyder het, omdat hulle gevrees het dat dit immoraliteit onder vroue sou aanhits en verskoon.[4]  Ons weet nie of hy reg was nie, maar vandag nog gebruik mense Jh.8 om hulle sonde te verskoon.

 

Wanneer iemand hierdie mense se sonde uitwys, dan sê hulle: ‘Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi.  Jesus het vir die immorele vrou gesê dat Hy haar nie veroordeel nie.  Wie is jý om my te oordeel?  Het Jesus nie gesê jy mag nie oordeel nie?’

 

Die waarheid is dat Jesus die teenoorgestelde gesê het.  Jesus het nie haar sonde goedgekeur nie, maar juis gesê dat sy daarmee moet ophou (v.11).

 

Die Joodse leiers het geweet dat hulle skuldig is, en het een vir een weggeloop (8:9). Omdat die ouer manne wyser was, het hulle eerste geloop (8:9).  Alhoewel hulle skuldig was, het hulle nie hulle sonde bely en vir die Here gevra om hulle te vergewe nie, maar die rug op Hom gedraai.  Die vrou het alleen voor Jesus gestaan soos ‘n beskuldigde voor die Regter (8:9).

 

Jesus het opgestaan, haar in die oë gekyk en vir haar gevra: ‘Vrou, waar is hulle?  Het hulle jou nie verdoem nie?’ (8:10).  Nie een van hulle was gekwalifiseerd om haar te veroordeel nie.  Net Jesus was, maar Hy het nie.  ‘Niemand het my verdoem nie, Here,’ het sy gesê (8:11).  Sy het besef dat Hy die Here is.  In sy groot genade het Hy haar nie verdoem nie, aangesien Hy nie gekom het “om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” (3:17).

 

Moenie dink dat Jesus haar sonde goedgekeur het, of dat Hy dit onder die mat ingevee het nie. Hy was bereid om haar te vergewe, omdat Hy later die straf vir haar sonde op Homself sou neem aan die kruis.  Maar om vergewe te word kon sy nie in haar sonde voortgaan nie; sy moes haar daarvan bekeer het (8:11, 5:14).  Sy moes nie net hierdie sonde nie, maar haar leefstyl van sonde gelos het [Gk.].  Sy moes haarself aan die Here en sy Woord onderwerp het.  Sy moes ‘n nuwe blaadjie omgeslaan het.  Sy moes heilig, regverdig, rein, en gehoorsaam gewees het.  Sy moes nie bloot so gelewe het omdat sy bang was sy word gestenig nie, maar omdat sy Jesus se genade en vergifnis ontvang het.  Indien sy haar nié bekeer het nie, sou Jesus haar op die laaste Dag tot die ewige hel verdoem het.

 

Om die Here se vergifnis te ontvang moet jy jou bekeer (v.11, Lk.24:47, Hd.3:19). As jy jou nié bekeer nie, sal God sy swaard teen jou skerp maak, sy boog span, en jou die teiken van sy pyle maak (Ps.7:13).  Omdat Jesus sonder sonde is, kan en sal Hy die eerste klip optel as jy jou nie bekeer nie (v.7).

 

Om jou te bekeer beteken nie bloot dat jy jou sonde erken, of selfs dat jy vergifnis vra nie. Farao, Bileam, Saul en Judas is voorbeelde van mense wat hulle sonde erken het en vergifnis gevra het, maar nie vergewe is nie (Eks.9:27-28, 10:16-17, Nm.22:34, 1 Sm.15:24-25, 30, Mt.27:4-5).  Om vergewe te word moet jy ware berou hê.  Moenie soos Farao wees en net wil hê dat die Here jou slegte omstandighede moet verander nie.  Moenie soos Bileam jammer wees omdat jy weet die Here is kwaad vir jou, en omdat jy nie in moeilikheid wil kom nie.  Moenie soos Saul wees en gou jammer sê, omdat jy nie verleë wil wees voor ander, of omdat jy nie jou status wil verloor nie.  Moenie soos Judas jou sonde bely, omdat jy jou skuldige gewete wil stilmaak nie.

 

Volgens die Bybel is dit moontlik om vir ‘n tydjie met jou sonde op te hou, sonder dat jy jou waarlik bekeer het. Die Here ken ons harte en weet of ons ware berou het (Ps.78:34-37).  In 1 Kon.21:27 het koning Agab hom voor die Here verneder, maar gou weer na sy sondige weë toe teruggekeer.  In Jer.34:8-16 het Sedekia vir die volk gesê om hulle Hebreeuse slawe vry te laat, maar later het hulle die slawe teruggevat en teen die Here gesondig.

 

Wat is ware bekering dan? Ware bekering is ‘n gawe wat van die Here af kom (Hd.5:31, 11:18, 2 Tm.2:25).  Alhoewel jý jou moet bekeer, moet jy erken dat jy dit nie sonder die Here kan doen nie.  Sê dan vir Hom dat jy bereid is te doen wat reg is, en vra dat Hy in jou hart sal werk.  Om jou waarlik te bekeer, moet jy aanspreeklikheid vir jou dade aanvaar.  Moenie ander mense of jou omstandighede blammeer nie, maar pak die skuld op jouself (2 Sm.24:17).  Wees kwaad vir jouself en jou sonde, eerder as vir God en ander mense.  Moenie jou sonde verskoon nie:  ‘Ja, ek het gesondig, maar…’  Moet dit nie afmaak asof dit nie so erg is nie.  Moenie sê dat jou sonde ‘n siekte is, of dat ‘n demoon van woede of wellus gemaak het dat jy dit doen nie (Gn.3:13).

 

As jy jou waarlik bekeer het, sal jy bereid wees om die gevolge van jou sonde te dra, hoe swaar dit ookal mag wees. Jy sal nie sê dat die Here onregverdig en verkeerd om jou te straf, en dat jý reg is nie.  Jy sal saam met Dawid sê dat die Here reg is, en jy verkeerd (Ps.51:6).  Jy sal bereid wees om enige ongerief en pyn te verduur om jou sonde te los (Mt.5:29-30).  Jy sal bereid wees om enige verhouding te beeïndig wat jou tot sonde versoek.

 

Ware bekering vrees om weer teen die Here te sondig, wil hê dat sy of haar verhouding met die Here herstel moet word, rus nie totdat dit reg is nie, soek ‘n rein hart (2 Kor.7:11), draai nie net sy rug op een sonde nie, maar poog om die Here met sy hele lewe te gehoorsaam (v.11), los nie net die verkeerde nie, maar jaag na wat reg is (Ef.4:22-24), en doen dade wat by die bekering pas (Mt.3:8, Hd.26:20).

 

As jy bloot jammer kon sê en jou nie hoef te bekeer nie, dan is God se vergifnis goedkoop (v.11, Sp.28:13). Jesus het sy bloed gestort om ons te vergewe, en daarom kan ons nie volhard in die sonde waarvoor Hy gesterf het nie.  Bekeer jou van jou sondige gedagtes, woorde, motiewe, begeertes, dade, leefstyl, karakter en persoonlikheid.  En sien dan dat Jesus en sy kruisdood jou enigste hoop is om vergewe te word.

 

‘Hoe weet ek die Here sal my vergewe? Wat as ek te erg of te veel gesondig het, of as ek my kanse verbeur het?’  In 1 Jh.1:9 staan daar:  “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”  God is getrou en kan nie lieg nie.  As jy jou sonde erken en in ware berou na Hom toe kom, sal Hy jou vergewe.  Hy is ook regverdig.  As jy dan op Jesus vertrou en in Hom skuil, sal God jou nie straf nie, omdat Hy alreeds vir Jesus in jou plek gestraf het aan die kruis.  As jy jou sonde bely en nie vergewe word nie, dan sê God in effek dat Jesus se offer vir sondaars nie voldoende is nie.

 

Geen sonde is te groot as jy met ‘n berouvolle hart na die Here toe kom nie. In Jh.8 het Hy ‘n losbandige vrou vergewe.  In Jh.4 het Jesus ‘n vrou vergewe wat vyf keer getroud was en daarna saam met ‘n man gebly het.  In Lk.7 het Hy ‘n prostituut vergewe.  Hy het Dawid se egbreuk en moord vergewe.  Hy het ook Paulus se vervolging van Christene, Petrus se verloëning van Jesus, die rower aan die kruis se moord, Saggeus se diefstal, die Nineviete se wreedaardige dade (Jona 3) vergewe.  Jesus se broers het gesê dat Hy mal is (7:5, Mk.3:21), en tog het Hy hulle vergewe (Hd.1:14).  Hy het die Korintiërs se egbreuk, lastering, gierigheid, afgodery, dronkenskap, homoseksualiteit, en die res van hulle sonde vergewe (1 Kor.6:9-11).  En kan die Here jóú nie vergewe nie?  Wat maak jou so spesiaal dat jy buite die bereik van sy genade is?

 

‘Maar wat as ek myself nie kan vergewe nie? En wat as die duiwel of mense my alewig aan my sonde herinner (8:4)?’  Wat saakmaak is of die Here jou vergewe het, en nie of jy jouself vergewe het nie.  As die Here jou regverdig en onskuldig verklaar het, maak dit nie saak of mense en die duiwel jou verdoem nie (v.10-11, Rm.8:33).  Op die oordeelsdag sal jy gou agterkom dat Jesus se opinie al een is wat tel.  Maak dan seker dat die Here jou vergewe het.

 

Ek het ‘n goeie vriend wie se stryd baie dieselfde was as John Bunyan s’n. Voor sy bekering het hy gedink dat hy teen die Heilige Gees gesondig het.  Hy het gedink dat die Here hom nie kán vergewe nie.  Maar tot sy verligting het hy besef dat die Here se genade en vergifnis groter is as sy sonde.  Ek bid dat die Here vir jóú sal doen wat Hy vir my vriend en die vrou in Jh.8 gedoen het.

 

[1] ESV voetnota; William Hendriksen, New Testament Commentary: John, vol.2, pp.34-35; Bruce Metzger, A Textual Commentary on the Greek New Testament, pp.220-221; D.A. Carson, The Gospel According to John, pp.333-334; Leon Morris, The Gospel According to John, pp.883-884

[2] Bruce Metzger, Ibid, p.222

[3] Leon Morris, Ibid, p.888 n.22

[4] William Hendriksen, Ibid, p.35

’n Pleidooi om te vergewe

Unforgiveness

Toe ek Nelspruit gebly het was ek hiper-krities, negatief, en bitter. In die begin van 2004 het ek ‘n predikante konferensie bygewoon.  Een van die sessies het gehandel oor kritiek in die bediening.  In die begin van die sessie het ek gedink:  ‘Mense het dit al teen my gesê.’  Teen die middel van die sessie het ek gedink:  ‘Ek het dit al teen mense gesê.’  Aan die einde van die sessie was ek onder ‘n diep oortuiging van sonde.  Ek het gevlug en op die berg gaan bid.  Ná die konferensie het ek teruggegaan Nelspruit toe en dinge met die predikant en sy vrou uitgepraat.  Ek hoop van harte dat Paulus se brief aan Filemon jou sal help om jou eie hart te ondersoek, en nie die splinter in jou broer se oog raak te sien nie.

 

Paulus se seënwense (v.1-3)

Een van my vriende moes ‘n dissipline saak in hulle gemeente hanteer. In die weke en maande daarna het die man vir hom lelike boodskappe gestuur en gemaak of my vriend die skuldige een is wat hom moet bekeer.  My vriend het sy koel gehou en die saak in gebed aan die Here opgedra.  Omtrent 18 maande later het die man tot sy sinne gekom en gevra dat my vriend en die res van die gemeente hom sal vergewe.  Hoe vergewe jy mense wanneer hulle jou te na kom?  Paulus se brief aan Filemon leer vir ons hoe.

 

Toe Paulus hierdie brief geskryf het, was hy vir twee jaar onder huisarres in Rome (v.1, Hd.28:16, 30-31). Gedurende hierdie tyd het hy nie net Filemon geskryf nie, maar ook Efesiërs, Filippense en Kolossense (Ef.6:20, Fil.1:13, Kol.4:18).  Hy was nie in die tronk omdat hy iets verkeerd gedoen het nie, maar omdat hy die evangelie verkondig het (v.1).  Deur na sy gevangeneskap te verwys het Paulus indirek vir Filemon gesê:  ‘As ek hierdie verdrukking kan deurmaak, kan jy sekerlik die man wat jou te na gekom het vergewe.’

 

Alhoewel Paulus sy eie briewe onderteken het (v.19, 2 Ts.3:17), het ‘n sekretaris dit onder sy diktee geskryf (Rm.16:22). Jong Timoteus was waarskynlik sy sekretaris toe hy Filemon geskryf het (v.1, Hd.16:3).  Die brief was bedoel vir Paulus se geliefde medewerker, Filemon (v.1).  Hy het dit egter ook gerig aan sy suster in die geloof, Appia, en aan Archippus, sy dapper medestryder (v.2).  Dit is nie onmoontlik dat hierdie twee mense Filemon se vrou en seun was nie.  Die brief moes ook voorgehou word aan die Kolossense wat in sy huis ontmoet het (v.2, vgl. v.2, 10, 23-24 met Kol.4:9-10, 12-14, 17).  Alhoewel dit ‘n persoonlike brief was, moes almal daaruit geleer het.  Die Vader en die Seun sou aan hulle die genade gegee het om in vrede met mekaar te lewe (v.3).

 

Paulus se gebed (v.4-7)

Facing the Giants is ‘n film wat gaan oor ‘n middelmatige voetbalspan wat uiteindelik heel bo uitkom en die kampioenskappe wen. Die span het aanvanklik geglo dat hulle nooit die finaal sal maak nie.  Om vir hulle volharding te leer, het die afrigter vir die sterkste speler ‘n baie moeilike taak gegee om te doen.  Toe die speler wou uitsak, het die afrigter vir hom geskreeu om aan te hou.  ‘As jý uitsak sal die res van die span jou voorbeeld volg,’ het hy gesê.  ‘Maar as jy volhard sal die ander spelers moed hê.  Jy het die mag om hierdie span te maak of te breek.’

 

Net soos wat sy aksies die span beïnvloed het, sou Filemon se geloof en liefdevolle karakter gemeente beïnvloed het. As Filemon vir Onesimus vergewe het, sou dit ‘n sterk boodskap aan die res van die gemeente deurgestuur het.  Maar as hy dit nié gedoen het nie, sou die suurdeeg van sy bitterheid die hele gemeente deurtrek het.

 

Paulus het die Here gereeld vir Filemon gedank (v.4). Filemon se rotsvaste geloof in die Here en sy praktiese liefde vir die heiliges was so noemenswaardig, dat mense vir Paulus daarvan vertel het (v.5, vgl. Ef.1:15, Kol.1:4).  Sy liefde vir ander het voortgevloei uit ‘n opregte geloof in Jesus (Gal.5:6).  Paulus het gebid dat Filemon se geloof ‘n effek op die gemeente sou hê, sodat hulle kon besef watse heerlike voorregte hulle in Christus het (v.6, Ef.1:3).  Filemon se oop huis en liefde was vir die gemeente so verfrissend soos koue water in jou gesig as jy klaar gedraf het (v.7, 2).  Die nuus hiervan het vir Paulus bly gemaak en hom bemoedig (v.7).

 

Paulus se versoek (v.8-22)

‘n Man het my eenkeer gebel en gesê dat sy vrou weg is, en dat hy nie weet wat van haar geword het nie. Ek het die vrou gebel en gevra of ek haar kan sien.  Sy het vir my verduidelik waar sy is, en ek het soontoe gery om met haar te praat.  Ek het mooi gevra dat sy na haar man toe moet terugkeer.

 

Die volgende dag het ek met hulle ontmoet en voorgestel dat ons met berading moet begin. Beide van hulle het daartoe ingestem.  Ons het vir omtrent tien of twaalf weke bymekaar gekom.  Deur die Here se genade het dinge drasties verbeter.  Daar was maar nog stampe en stote, maar vandag is hulle huwelik so vrolik en gelukkig soos voëltjies in die lente.  Ek klop myself nie op die skouer nie, maar wil illustreer hoe jy soms by mense moet pleit om te vergewe.  Dit is wat Paulus met Filemon gedoen het.

 

As ‘n apostel en ambassadeur van Christus, het Paulus die reg gehad om vir Filemon te beveel (v.8-9, 1 Ts.2:6). Maar omdat hy hom liefgehad het, het hy langs hom kom staan en hom gesmeek (v.9).  Wat was Paulus se versoek?  Filemon se weghol-slaaf Onesimus, het op een of ander manier vir Paulus ontmoet.  Paulus het die evangelie met hom gedeel en sy geestelike pa geword (v.10, 1 Kor.4:14-15).  Voor sy bekering was Onesimus nutteloos, onbruikbaar en lui (v.11).  Maar nou sou hy, volgens sy naam se betekenis, nuttig en bruikbaar gewees het vir Filemon en vir Paulus (v.11).

 

Paulus wou gehad het dat Onesimus dinge met sy meester moes regmaak, en daarom het hy hom na Filemon toe teruggestuur (v.12). Om te verhoed dat slawehandelaars hom langs die pad sou vang, het Paulus vir Tichikus met die Kolossense-brief in sy hand saamgestuur (Kol.4:7-9).  Paulus het vir Onesimus uit sy hart uit liefgehad (v.12).  Hy wou bitter graag gehad het dat Filemon hierdie nuwe gelowige moes liefhê soos wat hy die res van die gemeente liefgehad het (v.5, 7).

 

Paulus was lief vir Onesimus en sou daarvan gehou het as hy by hom gebly het (v.13). Hy kon vir Paulus tot diens gewees het deur bv. briewe aan die gemeentes af te lewer (v.13).  Dit sou vir Paulus gewees het asof Filemon self daar was om hom te dien (v.13, 1 Kor.16:17).  Hy wou egter nie sy perke oorskry het nie, maar wou gehad het dat Filemon self ‘n besluit moet neem (v.14).  Dit sou nie gehelp het as Filemon verplig gevoel het om dit te doen nie (v.14).  Alhoewel Onesimus verkeerd was om van sy meester af weg te hardloop, was dit binne God se soewereine plan, sodat hy tot bekering kon kom en Filemon hom vir ewig as ‘n broer in die Here kon terughê (v.15-16, Rm.8:28, Gn.50:20).

 

As ‘n medewerker in die Here het Paulus vir Filemon gesmeek om vir Onesimus terug te neem, asof dit Paulus self was wat na hom toe gekom het (v.17). Dit is so dat Onesimus hom skade aangedoen het en geld by hom gesteel het (v.18).  Dit is ook so dat sy daad onder die Romeinse wet strafbaar was met die dood.[1]  Paulus het geskryf om te vra dat Filemon vir Onesimus moes vergewe.  Soos wat Jesus Paulus se sondeskuld betaal het, was Paulus bereid om Onesimus se finansiële skuld te betaal (v.18-19).  Om dit te bevestig het hy hierdie woorde met sy eie hand geskryf (v.19).  Onesimus het vir Filemon geld geskuld, maar Filemon het onder Paulus tot bekering gekom en hom sy lewe geskuld (v.19).  In sy oorweging om vir Onesimus te vergewe moes Filemon dit asseblief onthou het.

 

Filemon het alreeds Paulus se hart bly gemaak (v.7), maar as hy vir Onesimus vergewe het sou hy die apostel se hart bevoordeel en verkwik het (v.20). Paulus het Filemon se karakter geken (v.5, 7) en geweet dat hy nie net vir Onesimus sou vergewe nie, maar dat hy hom met vreugde sou ontvang (v.21).  Wie weet of hy nie miskien vir Onesimus sy vryheid gegee het nie?  Buiten vir sy pleidooi om vir Onesimus te vergewe, het Paulus ook ‘n praktiese versoek gehad:  ná sy vrylating sou hy graag vir ‘n tydjie in Filemon se gastekamer wou bly (v.22).  Hy was oortuig dat ‘n genadige God die gelowiges se gebede vir sy vrylating gaan beantwoord (v.22, Fil.1:19, 2:24).

 

Paulus se groete (v.23-25)

Weet jy van skole wat ‘n tekort het aan mans onderwysers? Omdat daar min of geen mans op die personeel is nie, moet ‘n onderwyseres die seuns se eerste krieketspan afrig.  Sy het ‘n boek in die biblioteek uitgeneem, en het ‘n goeie idee van hoe die sport werk.  Haar teorie en praktyk is egter soos die teenpole van ‘n magneet.  Sy weet glad nie hoe om ‘n bal te vang, hoe om ‘n veeghou te speel, of hoe om die bal te laat wegbreek nie.  As hulle dit kon gehelp het, sou die seuns nie wou gehad het dat sy hulle moet afrig nie.

 

Op dieselfde manier wil ons nie na die lang uitgerekte stories luister van iemand wat nie weet wat dit beteken om die slagoffer van ander se sonde te wees nie, iemand wat nie weet wat dit beteken om te vergewe nie. Saam met Paulus kan ek eerlik vir jou sê dat ek nie maar net die teorie van vergifnis ken nie.

 

Vyf van Paulus se medewerkers het vir Filemon groete laat weet (v.23-24). Epafras was ‘n mede-gevangene vir die evangelie (v.23, Kol.4:12).  Hy het die kerk in Kolosse begin en was goed bekend aan die gemeente (Kol.1:7).  Aristarchus van Tessalonika was saam met Paulus in die tronk (Kol.4:10, Hd.19:29, 20:4, 27:2).  Demas was sy medewerker, maar het hom verlaat omdat hy die wêreld liefgekry het (2 Tm.4:10).  Lukas was ‘n mediese dokter wat tot die einde toe by Paulus gebly het (Kol.4:10, 2 Tm.4:11).

 

Markus het onder Petrus tot bekering gekom (1 Pt.5:13) en was Barnabas se neef (Kol.4:10). Hy het Markus geskryf.  Jare tevore het Paulus en Barnabas paaie geskei oor hom (Hd.15:36-41).  Paulus het intussen weer vir Markus vertrou, en hom as ‘n medewerker beskou (v.23).  Sy versoening met Markus sou vir Filemon en die gemeente ‘n groot les gewees het:  Paulus ken nie maar net die teorie van vergifnis nie, maar die praktyk ook.  Met die Here saam kon elke gelowige dit reggekry het om hulle vyande te vergewe (v.25).

 

Ons moet mekaar vergewe, want ons dit nié doen nie, sal die Here ons ook nie vergewe nie (Mt.6:12, 14-15). Iemand wat nie van die bitterheid in sy of haar ontslae raak nie, sal die Koninkryk van God nie sien nie, maar vir ewig in die hel wees (Mt.5:22, 1 Jh.3:15).

 

Volgens die Ef.4:32 moet ons mekaar vergewe soos wat die Here ons vergewe het. Hy vergeld ons nie volgens wat ons verdien nie, maar verwyder ons sonde van ons af weg so ver soos wat die ooste van die weste af is (Ps.103:10, 12).  Hy vertrap ons sondes onder sy voete en werp dit in die diepste see (Mg.7:19).  Hy laat dit soos mis voor die son verdwyn (Jes.44:22).  Hy het ons skoongewas, sodat ons harte spierwit geword het soos sneeu en wit wol (Jes.1:18).  Alhoewel die Here nie aan geheue verlies ly nie, het Hy besluit om nie meer aan ons sonde te dink nie:  Hy haal dit nie op soos wat ons dikwels doen nie (Hb.10:17).

 

Hier is nog ‘n paar dinge wat jy in gedagte moet hou:

 

[1] God keur nie sonde goed nie, maar kon verhoed het dat mense jou te na kom. Hy het dit egter nie gedoen nie, omdat Hy iets goed in gedagte het, en omdat Hy jou meer soos Jesus wil maak (v.15, Rm.8:28-29, Gn.45:5, 8, 50:20).

 

[2] My en jou sonde was so groot dat dit Jesus sy lewe gekos het om ons te vergewe. Hoe kan ons dan weier om ander se kleiner oortredings teen ons te vergewe (Mt.18:21-35)?

 

[3] Soos enige ander sonde, bedroef bitterheid die Heilige Gees en steek dit soos ‘n dolk sy hart. Die duiwel kry lekker as ons nie wil vergewe nie.

 

[4] Die Here sal wraak neem – los dit in sy bekwame hande (Rm.12:19, 1 Pt.2:23, Ps.37:5-6). Ons wil iemand se keel afsny as hy lieg, en hom op die hand slaan as ‘n moord pleeg.  Die Here weet hoe swaar Hy die persoon moet straf.  John Piper sê:  ‘If you hold a grudge, you doubt the Judge.’[2]  Dink asseblief daaraan dat jy nie al die feite het nie (al dink jy ook so).  God ken mense se geheime en motiewe, en kan daarom akkuraat oordeel.

 

Is die persoon wat teen jou gesondig het ‘n Christen? Jesus het die straf vir sy sonde op Homself geneem aan die kruis.  Is die persoon ongered?  Treur vir die persoon – moenie bly wees nie, maar treur – omdat God hom vir ewig in die hel gaan straf.

 

[5] Die Bybel verbied ons om ander Christene voor die hof te daag (1 Kor.6:1-8). Maar wat as die persoon die landswet oortree het deur bv. jou gesin te vermoor?  Volgens Mt.18:17 neem jy aan dat die persoon ‘n ongelowige is, en vat jy die saak verder.  Om te vergewe beteken nie jy mag nie vir die polisie sê nie.  God het die regering daargestel om sy wraak uit te oefen (Rm.13:4).

 

[6] Onthou dat jy ook al teen ander mense gesondig het (Pd.7:21-22). Ek is seker jy wil hê dat mense jóú moet vergewe.  Doen dan aan ander wat jy aan jou gedoen wil hê (Mt.7:12).

 

[7] Die persoon wat die swaarste ly onder bitterheid is jy. Iemand het gesê:  ‘Om bitter te wees is soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood.’  Iemand wat bitter is raak uiteindelik so agterdogtig soos Saul, sodat hy heeltemal irrasioneel optree.  “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rm.12:21).

 

[8] Wees versigtig vir wie jy luister; pasop vir die raad van ongelowiges (Ps.1:1). Moenie na die sielkundige, berader, vriend, familielid, kollega of vals leraar luister wat vir jou sê:  ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat’ nie (Mt.5:43).  Iemand wat sê:  ‘Ruïneer hom,’ is die duiwel se agent en gee vir jou slegte raad.  Jesus het gesê:  “Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Mt.5:44).  Jesus het vir sy vyande gebid toe Hy aan die kruis was (Lk.23:34).  Volg sy voorbeeld.

 

[9] As jy nie vergewe nie sal jou verhouding met die Here skade ly (1 Pt.3:7). Dit mag selfs wees dat Hy besluit om jou siek te maak of dood te maak as jy met ‘n onvergewensgesinde hart aan die nagmaal deelneem (1 Kor.11:30).

 

[10] Soos wat wellus omsit in egbreuk, sit bitterheid om in moord (Mt.5:21-22). Moord gebeur nie op die ingewing van die oomblik nie.  Dit het al lankal in die hart gebroei.  Volgens Jk.3:16 is bitterheid die oorsaak van baie ander sondes.

 

[11] Bitterheid affekteer nie net jou verhouding met die persoon wat jou te na kom nie. Baie ander mense is betrokke.  As Koos en Piet vir mekaar kwaad is, raak dit ook hulle vroue en kinders.  Maak daarom seker “dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” (Hb.12:15).

 

Wat moet jy dan doen? By die wederkoms gaan dit nie saakmaak of jy reg was, en of jy die argument gewen het nie.  Verneder jouself en neem die eerste stap om die saak uit te praat (Lv.19:17, Mt.5:23-24).  As jy alles in jou vermoeë gedoen het om vrede te maak, en die ander persoon nie vrede wil hê nie, kan jy met ‘n skoon gewete jou kop op jou kussing neerlê (Rm.12:18).

 

George Whitefield en John Wesley was goeie vriende, totdat hulle oor die uitverkiesing verskil het. Wesley het ‘n preek teen Whitefield se Calvinisme gepreek.  Ten spyte daarvan dat Whitefield hom gesmeek het om dit nie te publiseer nie, het Wesley nie geluister nie.  Daar het ‘n kloof tussen die twee vriende ontstaan.  Whitefield het menigmale probeer om dit reg te stel, maar Wesley was so hard soos ‘n klip.  Uiteindelik het die Here sy hart sag gemaak, en het hulle met mekaar versoen geraak.  Toe Whitefield dood is, het Wesley op sy begrafnis gepreek.[3]  Hoe sou Wesley gevoel het as Whitefield gesterf het, en hulle mekaar nie vergewe het nie?

 

[1] NIV Study Bible, p.1855

[2] John Piper, Future Grace, p.266

[3] Arnold Dallimore, George Whitefield (2 volumes)

Die voordele van God se vergifnis

Prodigal son

9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. 10 Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. 11 Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. 12 Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. 13 Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. 14 Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. 15 Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. 16 Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel. 17 Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig. 18 Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. 19 Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! 20 Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op. 21 Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.” (Psalm 51).

 

Diep reiniging (v.9, 12)

Net voordat die Israeliete uit Egipte uit is, moes hulle met ‘n hisoptakkie die bloed van die eersgebore lam teen die deurkosyne smeer (Eksodus 12:22).  In die Ou Testament is hisop dikwels gebruik in reinigingsrites (Levitikus 14:4, Hebreërs 9:19).  In v.9 gebruik Dawid hisop op ‘n simboliese manier.  Hy vra eintlik dat die Here hom heeltemal sal reinig, sodat hy wit sal wees soos sneeu (v.9, cf. Jesaja 1:18).  Sy gebed vir ‘n rein hart en vaste gees (v.12) behoort hoop te gee vir gelowiges wat met versoeking stry; vir daardie gelowige wat moedeloos is omdat hy ‘n hart vol onrein gedagtes het, of omdat hy so maklik toegee aan versoeking.  Moenie moed verloor nie:  God kan vir jou ‘n rein hart skep en ‘n vaste gees gee (v.12).

 

Groot blydskap (v.10, 14)

Dawid was vreugdeloos (v.10, 14).  Die rede was heel eerste as gevolg van sy sonde.  Maar daar was ook ander oorsake wat uit sy sonde voortgespruit het:  bene wat gepyn het, ‘n swaar skuldlas, brandende swere, hartkloppings, koors, eensaamheid (sy familie en vriende het hom versaak), vyande en God wat nie sy gebede beantwoord het nie (v.10, Psalm 32, 38).  Moenie die les mis nie:  depressie (vreugdeloosheid soos in v.10, 14) is dikwels die gevolg van ons sonde en skuldgevoelens (sien ook Genesis 4:5-7).  In so ‘n geval is anti-depressante die verkeerde oplossing en bekering die regte een.  Indien jy jou bekeer sal God, die engele, ander gelowiges en jy self groot blydskap beleef (v.10, Lukas 15).  Toe jy afgedwaal het was daar ‘n tyd waarin jy onbereidgewillig en vreugdeloos gedien het – so asof dit ‘n swaar plig was.  Maar wanneer jy jou bekeer en God jou vergewe sal jy kerk toe wil gaan, die Bybel wil lees, wil bid – dit sal vir jou lekker wees.  Jy sal groot vreugde hê in die volmaakte Lam wie se bene nie gebreek was nie (vergelyk v.10 met Johannes 19:33, 36).

 

Herstelde gemeenskap (v.11, 13)

Omdat Saul ongehoorsaam was aan God (1 Samuel 15), het God hom verwerp as koning; Hy het die Gees se koninklike salwing van hom af weggeneem:  “Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk…” (1 Samuel 16:14).  Dawid het geweet wat met Saul gebeur het.  Net soos Saul was hý ongehoorsaam aan die Here.  Hy wou nie soos Saul verwerp word en die koninklike salwing van die Gees verloor nie:  “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.” (v.13).  Daarom vra hy dat God hom sal vergewe en wegkyk van sy sonde af:  “Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.” (v.11).  Dit is omdat God sy gesig in oordeel weggedraai het van Jesus (vir ons sonde) dat Hy nou sy gesig van Dawid se sonde kon wegdraai (sien Matteus 27:46).

 

‘n Gelowige kan nie die Heilige Gees verloor nie, want enigiemand wat nie die Gees van Christus het nie behoort nie aan Hom nie (Romein 8:9).  Maar dit is moontlik dat ‘n gemeente of gelowige die Heilige Gees kan bedroef en sy seën verloor (v.13, Efesiërs 4:30).  Hoe kan ‘n kerk weet dat sy die Heilige Gees bedroef het; dat sy besig is om weg te dwaal?  Hier is ‘n paar aanduidings dat ‘n kerk besig is om weg te dwaal en die Heilige Gees te bedroef:

 

  • Die kerk word wêrelds.  In plaas daarvan dat die kerk die wêreld beïnvloed, beïnvloed die wêreld haar.
  • Sy ignoreer sonde.  Dissipline het heeltemal uit die kerk uit verdwyn.
  • Sy is biddeloos.  Die gereelde gebedstye het doodgeloop of word baie sleg bygewoon.
  • Mense versaak die gemeentelike samekomste.  Die opkomste by eredienste is kommerwekkend.
  • Mense is hiper-krities en sien alles raak wat verkeerd is.
  • Gemeentelede is nie meer verwonderd oor die kruis nie.  Die nagmaal is nie meer spesiaal nie.
  • Die suiwer prediking van die Woord beweeg jou nie meer nie.
  • Die kerk het geen hart vir verlore mense nie.  Sending en evangelisasie gebeur skaars.
  • Onbelangrike dinge vervang die belangrike.  Die Woord is nie meer sentraal nie.  By vergaderings word daar meer gepraat oor administrasie en die kleur van die matte as oor die verspreiding van die evangelie.
  • Mense soek preke wat hulle sal laat goed voel en is baie ontevrede met preke oor heiligmaking, selfverloëning, sonde, die oordeel, God se Persoon, ensovoorts.
  • Daar is geen teenkanting van die vyand nie.  Hy steur hom nie aan kerke wat geen bedreiging vir hom is nie.
  • Die kerk is lou.  Die Here se dinge word halfhartig gedoen.
  • Die mense het min liefde vir God, sy Woord, mekaar en hulle medemens.
  • Die kerk het geen invloed in die samelewing nie.
  • Verdeeldheid heers.

 

‘n Kerk wat in so ‘n posisie is sal voortgaan sonder om eers te weet dat die Gees haar verlaat het (soos Simson in Rigters 16:20 en Sardis in Openbaring 3:1-3).  Indien hierdie die beskrywing van jou of my gemeente is, is daar hoop as ons diep berou en bekering toon.  God kan so ‘n kerk vergewe, sodat die gemeenskap met Hom volkome herstel word.

 

Verreikende invloed (v.15)

Jesus het vir Petrus gesê:  “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.” (Lukas 22:32).  Wat Petrus gedoen het was baie sleg.  Maar God het dit vir die goeie uitgewerk, sodat Petrus ander sondaars wat geval het kon ophelp.  Net so het God Dawid se sonde en herstel gebruik om vir hom en ons te help:  “Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.” (v.15).  Hoeveel mense is nie al gehelp deur Dawid se lering in Psalm 51 nie?  Dawid het op die verkeerde pad beland en kon nou vir ander gelowiges waarsku om nie op dieselfde pad te wandel nie.  1 Korintiërs 10:11 geld ook vir Dawid se sonde:  “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”  En alhoewel 2 Korintiërs 1:4 van beproewing praat, kan ons dit toepas op Dawid se sonde en ons eie:  “[God] wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”  God sal stukkende en sondige mense oor jou pad stuur, sodat jy jou soortgelyke ondervinding en sonde met hulle kan deel; sodat jy vir hulle kan vertel hoe die Here jou swaar getug en wonderbaarlik herstel het.  Ons moet natuurlik nie daaruit aflei dat net dié wat dieselfde sonde as jy gedoen het jou dilemma kan verstaan nie.  Jesus het nooit enige van hierdie sondes gedoen nie, en Hy verstaan ons beter as enigiemand anders.

 

Spontane lofprysing (v.16-17)

Dawid vra dat God Hom sal red van bloedskuld (v.16, 2 Samuel 12:9).  Hy is skuldig aan moord en verdien, volgens die Ou Testamentiese wet, die doodstraf.  In die tyd van sy sonde was daar geen lof uit Dawid (die soete psalmis van Israel wat so dikwels die Here geloof het) se mond nie.  Dit is inderdaad moeilik om die Here te loof wanneer ons sondig.  En meer as dikwels is dit om híérdie rede wat mense vir lang tye wegbly van eredienste af:  hulle is besig met een of ander sonde en kan nie die Here loof nie.  As die Here jou vergewe dan sal hy ook jou lippe oopmaak, sodat jy Hom met vrymoedigheid kan loof (v.16-17).

 

Aanneemlike offers (v.18-21)

‘n Getroude vrou soek nie haar man se opofferings om vir haar te sorg, as hy met ‘n buite egtelike verhouding besig is nie.  En net so soek God nie jou offers as jy ‘n buite egtelike verhouding het met sonde nie; as jy jou nie bekeer het nie:  “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.  Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!  Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.  Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.” (v.18-21).  Jy kan nie God se guns wen of vergifnis koop deur jou ‘offers’ van vas, Bybellees, kerkbywoning, gebed, trane, tiendes, beloftes en luister van Christelike musiek nie.  Dit help nie dat jy vir ‘n tyd lank jou gunsteling sonde los nie.  As jy dít doen is jy net soos Israel:  “Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.  En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.” (Psalm 78:34-37).  “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.  Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.  En laat ons ken—laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.  Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? aangesien julle liefde is soos ‘n môrewolk en soos ‘n dou wat vroeg weer verdwyn.” (Hosea 6:1-4).

 

Jesaja beskryf dit in baie duidelike terme:

 

“Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.  Wel soek hulle My dag vir dag en het ‘n behae in die kennis van my weë!  Soos ‘n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ‘n behae in die toenadering tot God.  Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? —Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan.  Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie.  Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos ‘n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees?  Noem jy dit vas en ‘n dag wat die HERE welgevallig is?  Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek?  Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie?  As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?  Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees.  Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê:  Hier is Ek!  As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.” (Jesaja 58:1-10).

 

God wil egte bekering hê.  Jy kan weet jou bekering is vals as dinge soos vas, kerkbywoning of trane jou einddoel word en nie ‘n middel tot ‘n doel nie (om die Here te verheerlik, beter te ken en te gehoorsaam).  Net so ervaar iemand wie se bekering nie blywend is nie, ‘n vals bekering.  Volgens Paulus kan ‘n mens ware en valse bekering só onderskei:  “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.  Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God—wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is.” (2 Korintiërs 7:10-11).  ‘n Persoon wat net jammer is omdat hy uitgevang is, of omdat die sonde hom laat sleg voel, het nie ‘n ware bekering ondergaan nie.  Die persoon wat jammer is oor sy sonde, vrees om weer op die verkeerde pad te loop, ‘n verlange het na herstelde gemeenskap met Christus, ywerig is vir sy saak, homself bestraf, verontwaardig is oor sy lelike sonde en meer verantwoordelik raak – dié persoon het hom waarlik bekeer.

 

Dít is die gebroke hart wat die Here wil hê (v.18-19) voordat Hy ons offers sal aanneem (v.20-21).  Die Skrif sê elders:  “Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE?  Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” (1 Samuel 15:22).  “Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” (Hosea 6:6).  “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam:  Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” (Jesaja 57:15).  Die rede hoekom Jesus se offer aanneemlik was, is juis omdat Hy éérs gehoorsaam, nederig en onderdanig was.  ‘n Messianse Psalm sê:  “U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe [oop ore om gehoorsaam te wees]; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie.” (Psalm 40:7).  Jou hoop moet wees in Jesus Christus en sy kruisdood.  Dán sal God jóú offer sal aanneem.  Dit is immers by die kruis waar ‘n gebroke hart en bekering sy ontstaan het.