’n Voorbeeld van goeie rentmeesterskap

Stacking coins

Tiaan se baas gaan vir ses maande oorsee. Hy gee vir Tiaan R1 miljoen om die plaas se water en ligte te betaal, chloor en suur te koop vir die swembad, perdekos te koop, die plaaswerkers te betaal, gif te koop vir die mielies, en diesel vir die trekkers.  Tiaan voel ryk met R1 miljoen in sy kluis.  Die waarheid is dat hy net ‘n rentmeester is wat iemand anders se geld moet bestuur.

 

So ook is jy net ‘n rentmeester van die tyd, geld, huis, en verhoudings wat God aan jou toevertrou het.  In 1 Korintiërs 16:1-12 het ons ‘n voorbeeld van hoe om hierdie dinge goed en tot eer van God te bestuur.

 

Geld (v.1-4)

Toe ek in Nelspruit gebly het, moes ek eenkeer tandarts toe gaan. Hy het in ‘n kwaai stem vir my gesê:  ‘Julle jong mense is penny wise, pound foolish.’  Sy bedoeling was:  julle spaar baie sente deur nie gereeld die tandarts te besoek nie, en as jy dan móét gaan, kos dit hope meer sente as wat jy gespaar het.

 

Ook in die geestelike realm kan ons so wees: ons het baie skatte op die aarde, maar niks in die hemel nie.  As jy regtig ‘n goeie rentmeester van God se geld wil wees, moet jy nie net hier-en-nou slim werk nie.  Gebruik ook jou geld om vir jou skatte weg te lê in die hemel.  Hoe doen jy dit?  Dra by op die regte plek en op die regte manier.  Paulus wys vir ons hoe in v.1-4.

 

Die Korintiërs het vir Paulus ‘n brief geskryf (7:1, 25, 8:1, 12:1). Hulle het onder andere gevra oor die finansiële bydae vir die arm gelowiges in Jerusalem (v.1).  In 2 Korintiërs 8-9 het Paulus weer hieroor geskryf.  Die Christene in Jerusalem was arm omdat hulle hul huise verkoop het, verstrooi is deur die vervolging, en ‘n kwaai hongersnood moes deurmaak (Handelinge 4:34, 8:1, 11:28).  Paulus het ‘n bydae gevra van die kerke in die Galasië, Macedonië en Achaje provinsies.  Indien nodig, sou hy self saam met die afgevaardigdes gereis het om die geld af te lewer (v.4).

 

Wees ‘n goeie rentmeester van God se geld. Sorg vir jou gesin, en moenie geld mors, jaag, daaroor stres, of lui wees nie.  Ek wil egter op een area fokus:  jou bydrae vir die Here se werk.  In v.2-3 gee Paulus vyf tydlose lesse hieroor.

 

[1] Gee elke Sondag as die gelowiges byeenkom (v.2). As jy op dié manier gee, is dit nie onder die emosionele druk van die situasie nie.  Ook bly jy in ‘n goeie gewoonte om te gee.  Om weekliks by te dra is slim, omdat jy nie op een slag baie hoef uit te gee nie (volgens 2 Kor.8:10 het die Korintiërs vir ‘n hele jaar lank gespaar).  As jy weekliks bydra, leer jy om gereeld te gee, en nie net as jy ‘gelei’ of lus voel nie (2 Korintiërs 9:7).

 

[2] Almal moet iets gee (v.2).  Ja, ons verwag nie dat arm mense moet gee nie.  Tog sal selfs die arm persoon wat vir God en sy naaste lief is, wil gee (1 Johannes 3:16-18, 2 Korintiërs 8:1-5).

 

[3] Gee vrywillig volgens jou salaris en nie volgens ‘n tiende wet nie (v.2). God dwing of boelie jou nie om te gee nie.  Ons kerk se leiers kollekteer nie by mense se huise nie.  Ons kyk nie wie gee wat nie.  Party mense gee R20; ander gee R10 000.  Die vrywillige bydrae impliseer ons gee nie net as ons iets kan terugkry nie (bv. ‘n jaffel, vetkoek, koeksister, kerrie en rys, of pannekoek by ‘n basaar).  Nêrens in die Nuwe Testament het kerke basaars gehou om geld in te samel nie.  Die kerk het nie op ongelowiges gesteun om kos te koop by ‘n basaar, net omdat die gelowiges traag was om by te dra nie.

 

[4] Gee vir ‘n spesifieke doel (Romeine 15:26). Ons finansiële state wys hoe en waarvoor die geld gebruik word:  salarisse, ondersteuning van sendelinge, armsorg, admininistrasie, die instandhouding van geboue.  As ons nie ‘n spesifieke doel het waarvoor ons gee nie, moet ons nie ‘n offergawe opneem nie.  Paulus self het gesê daar moenie ‘n insameling wees as hy kom nie (v.2).

 

[5] Wees betroubaar as jy met geld werk (v.3, 1 Timoteus 3:8). Paulus het gesê dat die Korintiërs mense moet afvaardig om die geld Jerusalem toe te vat.  Dit het hy gedoen om hulle te verseker dat hy nie die geld vir homself vat nie – hulle kan hom vertrou.  Hy wou hulle aanbeveling op skrif hê, sodat niemand later kon sê Paulus het sy vriende gekies, sodat hy van die geld kon kry nie (v.3).

 

Mense wat die offergawe opneem, die geld tel en bank, die boeke of internet betalings doen, moenie geldgierig wees nie. Die gemeente moet ‘n geruste hart hê oor dié wat die geld werk.  Paulus self wou “voorkom dat iemand ons sou belaster in verband met hierdie groot bydrae wat deur ons berei word.  Want ons bedink wat goed is nie alleen voor die Here nie, maar ook voor die mense.” (2 Korintiërs 8:20-21).

 

Tyd (v.5-9)

‘n Paar maande gelede het iemand ‘n Whatsapp gestuur met ‘n aanhaling van John Piper: ‘Een van die grootste voordele van Facebook en Twitter, is om op laaste Dag te bewys dat mense nie biddeloos was weens ‘n gebrek aan tyd nie.’[1]  Tyd is soos ‘n kosbare diamant wat ons moet oppas.  Paulus se lewe in v.5-9 is ‘n goeie voorbeeld van iemand wat die tyd uitgekoop het.

 

Toe Paulus hierdie brief geskryf het, was hy in Efese (v.8). Hy kon direk oor die see gevaar het Korinte toe.  Hy wou egter in ‘n hoefystervorm oor die land reis.  Hy wou deur Macedonië (Griekeland se noord-provinsie) reis om ‘n bydrae te kry in Tessalonika, Berea, en Filippi (v.5).  Daarna sou hy na Griekeland se suid-provinsie reis (Achaje) om die Korintiërs te sien (v.5).

 

Net soos met die geld (v.1-4), wou hy sy tyd goed spandeer. As dit God se wil was, sou hy die winter by hulle deurbring (v.6-7, Jakobus 4:15).  Hy wou die geld by hulle kry, hulle opbou, geestelike gemeenskap hou, beskikbaar wees ná die harde brief wat hulle van hom ontvang het, wag totdat die winter reënseisoen en storms op see verby was (v.6-7, Handelinge 20:1-3).  Dit lyk ook of hy sy Romeine-brief gedurende hierdie tyd geskryf het (Romeine 16:1, 23).

 

Paulus het gevra dat hulle hom op sy reis moes aanhelp – moontlik om ‘n skip te reël of reisgenote uit die gemeente met hom saam te stuur (v.6). Waarheen was hy oppad? Dalk Jerusalem toe (v.3-4).  Hy was onseker hoe die Here hom sou lei (v.6-7, vgl. Handelinge 20:3).  Paulus kon nie dadelik kom nie, maar sou tot en met Pinkster (einde Mei) in Efese bly (v.8).  Wou hy nog Jode bereik voordat hulle Jerusalem toe sou reis vir Pinkster?  Paulus het ‘n oop deur vir die evangelie gehad (v.9):  mense het luister en tot bekering gekom (Handelinge 14:27, 19:11, 20, Openbaring 3:8).  Paulus wou die kans gebruik voordat die deur toeklap (v.9, Handelinge 19:23).

 

Koop die tyd uit.[2]  Gebruik heel eerste jou tyd om gereed te kry vir die ewigheid:  “So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word.” (Johannes 12:36).  Tyd is ‘n klein skanier waaraan die groot swaar deur van die ewigheid hang.  Ons gee 13 jaar aan skool, 4 jaar aan universiteit, 35 om voor te berei vir aftrede.  Hoeveel tyd gee jy om jouself voor te berei vir die ewigheid?

 

Moenie jou kanse mors nie – veral nie as God naby jou is nie. “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” (Jesaja 55:6).  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Korintiërs 6:2).  “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.” (Hebreërs 4:7).

 

Dink daaraan hoe mense op hulle sterfbeddens wens vir nóg tyd; hoe mense in die hel wens hulle het die tyd beter gebruik. Het jy jare van jou lewe gemors?  Stel dit dadelik reg:  “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.” (Psalm 119:60).  Moenie dink jy kan dit later regstel nie.  Hoe weet jy daar sal ‘n later wees?  “Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie.” (Spreuke 27:1).

 

Wees veral versigtig vir die dinge wat jou tyd mors.

 

  • Sonde en Satan. Ons moet die tyd uitkoop, juis omdat die dae boos is (Efesiërs 5:16). As jy jou tyd mors en leeglê, sal die vyand vir jou iets vind om te doen.
  • Die dryf en begeerte na wêreldse dinge. Onthou dat die wêreld en alles daarin verbygaan (1 Johannes 2:16-17).
  • Luiheid. Moenie ledig rondsit nie.
  • Mense wat wil nonsens praat. Mense wat nie vorentoe beweeg nie, al spandeer jy ure aan hulle.
  • Dinge wat dringend is, maar nie noodwendig belangrik nie.
  • Verslawing aan tegnologie. Mense mors ure op die internet; op YouTube. Jy spring van een ‘link’ na die volgende. Ons mors ure op Facebook en Whatsapp. Voordat jy sien is 2 of 3 ure weg. TV steel ook tyd. Soms is daar niks op nie, maar ons spring deur die kanale. Playstation en X-Box kan ook ‘n hele of ‘n halwe dag steel – pasop.

 

Onthou: jy kan nie verlore tyd herwin soos wat jy verlore geld herwin nie.

 

Gasvryheid (v.10-11)

Ek het onlangs met ‘n vriend gepraat wat skuldig voel oor hulle nuwe huis met ‘n mooi tuin, baie kamers met dakwaaiers, ens. Dit is onnodig dat hy skuldig voel.  Volgens Filippense 4:11-13 kon Paulus teëspoed en voorspoed verduur deur Christus wat vir hom krag gee.  Hy kon teëspoed verduur sonder om te kla of angstig te wees.  Hy kon voorspoed geniet sonder om hoogmoedig te wees of af te dwaal.

 

Ek ken ‘n Christen man wat opsetlik ‘n groot huis gesoek het, omdat hy gasvry wou wees: ‘n groot sitkamer vir Bybelstudies, ‘n studeer kamer vir berading, kamers om weeskinders in te neem, ‘n groot onthaal area om vir 70 tot 80 gaste kos te gee, genoeg kamers omdat daar gedurig mense by hom oorgebly het.  Paulus self het ‘n huis gehuur en vriende gehuisves (vgl. Handelinge 28:30).  Nou het hy gevra dat die Korintiërs dieselfde moes doen vir Timoteus (v.10-11).

 

Paulus het solank vir Erastus en Timoteus vooruit gestuur om die kollekte af te haal (v.10, Handelinge 19:21-22). Timoteus het moontlik ook 1 Korintiërs vir die gemeente afgelewer.  Paulus wou hê die Korintiërs moes vir senuweeagtige Timoteus gerusstel (v.10, 2 Timoteus 1:7).  Hulle moes nie op hom neersien omdat hy jonk is nie (v.11, 1 Timoteus 4:12).  Hulle moes hom nie moedeloos maak met hulle sonde nie.  Hulle moes hom nie aanvat oor die harde woorde in Paulus se brief nie.  Hulle moes respek vir hom hê:  nie vir sy ouderdom nie, maar vir sy posisie (v.10, 1 Tessalonisense 5:11-12, 3:2, Hebreërs 13:7, 17, Filippense 2:20-22).  Hulle moes nie só optree dat hy wou vlug nie, maar moes hom in vrede aanhelp op sy reis (v.11, 6).  Paulus het hom terug verwag saam met die broers (v.11).  Die ‘broers’ van wie Paulus hier praat, verwys moontlik na broers uit Korinte wat die kerk se antwoord op sý brief (1 Korintiërs) moes bring.

 

Gebruik jou huis en bronne om gasvry wees. Hoe doen jy dit?

 

[1] Gee jouself voordat jy jou huis of kos gee. Laat jou gaste gemaklik en tuis voel (v.10).  Hulle moenie voel hulle is in die pad van jou besige skedule nie.  Jy moet gasvry wees sonder om daaroor te kla (1 Petrus 4:9).  Moet daarom nie gedurig onder jou gaste se voete skoonmaak, skottelgoed gaan was, e-posse antwoord, in die garage werk, dorp toe ry om goed te koop, op jou selfoon wees, stry en baklei, in jou kantoor sit, alleen staan en kook terwyl jou gaste sit en wag nie.

 

[2] Maak jou huis kinder-vriendelik voordat jou gaste opdaag. Kry vir die kinders iets om te doen; wees gaaf met hulle.  Mense voel maklik onwelkom as dit lyk asof hulle kinders vir jou ‘n las is.

 

[3] Wees gereed vir gaste op kort kennisgewing.

 

[4] Vra vir jou gaste of hulle vir iets allergies is; of daar iets is wat hulle nie eet nie.

 

[5] Kom in ‘n gewoonte om saam met jou gaste te bid voordat hulle ry.

 

[6] Ken die verskil tussen gasvryheid en vermaaklikheid. Jy hoef nie ryk te wees om gasvry te wees nie.  Gee vir jou gaste tee sonder koekies, sop en brood sonder nagereg.  Gee jou tyd en aandag vir hulle.  Gesels met hulle.  Mense gee nie om vir groente as hulle lekker gekuier het nie.  ‘n Bord sop met liefde is beter as ‘n pot beesstert waar daar ‘n dik en ongemaklike atmosfeer is.  “Liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby.” (Spreuke 15:17).  “Beter is ‘n stuk droë brood en rus daarby as ‘n huis vol offermaaltye met getwis.” (Spreuke 17:1).

 

Hoekom moet ons gasvry wees? As ons gasvry is teenoor ander gelowiges, is ons gasvry teenoor die Here (Matteus 25:35, 40).

 

Verhoudings (v.12)

Tydens ons onlangse vakansie het ons by vriende gebly. My vriend het elke aand 6 of 7 oproepe gemaak om te hoor hoe dit gaan met predikante, ouderlinge, lidmate, en besoekers wat ‘n belang het in die gemeente.  Ek het hom daaroor gevra.  Hy het gesê dat geld nie die verhoudings wat hy só bou, kan koop nie.  Dit is die punt van v.12.  Ek staan beskaam deur sy voorbeeld.

 

In hulle brief aan Paulus het die Korintiërs gevra na die populêre Apollos (v.12, 1:12, Handelinge 18:27-28). Paulus was nederig, en het nie ‘n probleem gehad dat hulle Apollos bo hom verkies nie.  Hy het vir Apollos aangemoedig om saam met die broers Korinte toe te gaan (v.12).  Apollos wou nie dadelik gaan nie (v.12).  Dalk was dit om sy vrienskap met Paulus te bewaar, of om te keer dat die Korintiërs hom verafgod (1:12).  Dalk het hy ander take gehad om af te handel, of dalk het hy te min reisgeld gehad.

 

Bou aan jou verhouding met jou naaste, en pas dit op.

 

[1] Moenie ten koste van jou gesin verhoudings bou met ander nie.  Spandeer tyd met jou gesin.  Sit saam om die tafel en eet; moenie voor die TV sit nie.

 

[2] Bou vriendskappe in die kerk. Probeer om nie ‘n minuut voor die diens in te kom, en dadelik weer te ry as die kerk uitkom nie.  Drink saam tee en kuier saam.  Skakel in by ‘n Bybelstudie groep.  Bel mekaar en kuier by mekaar se huise.  Moenie dat preke op TV, die radio, die internet, of e-kerk die erediens of geestelike gemeenskap vervang nie.

 

[3] Moenie te veel maak van oppervlakkige Facebook vriendskappe, waar mense like druk as jy verjaar nie.

 

[4] Pasop vir selfone! Het jy al gesien hoe mense by mekaar kuier, maar almal sit op hulle fone en kuier met ander?

 

Om vriende te wen en vriendskappe te koester moet jy ander bo jouself stel (soos Paulus in v.12). God wil hê ons moet goeie vriende hê.  Dit is immers nie goed dat die mens alleen is nie (Genesis 2:18).

 

Wat het toe met Tiaan gebeur? Na ses maande was die baas terug van sy oorsese reis.  Hy het die Maandag by die plaas aangekom, en dadelik gaan kyk na die toestand van sy plaaswerkers, perde, mielies, trekkers, en die swembad.  Hy het strokies gevra vir die water en ligte, salarisse, kos, gif, diesel, chloor en suur.  Alles was in orde.  Tiaan was betroubaar en het hom goed van sy taak gekwyt.  Die baas het die plaas en alles daarop aan Tiaan bemaak.  Ja, hy het dit vir hom gegee!

 

Wat sal jou Meester doen en sê oor hoe jy die tyd, geld, huise, besittings, en mense gebruik het wat Hy aan jou toevertrou het?

[1] Vry vertaal. Bron onbekend.

[2] Van die idees in my toepassing het ek gekry uit Jonathan Edwards, Works: vol.2, pp.233-236

Advertisements

Hoe om te oorleef in ’n seksmal samelewing

Wedding rings

Wat het mooi vroue te doen met hamburgers en vinnige karre?  Niks.  Tog is ons samelewing so behep met seks, dat hamburgers en karre só geadverteer word.  Hopelik kyk jy nie na vuil TV programme of tydskrifte nie.  Maar hoe oorleef jy as dié goed vir jou gewys word in die koerant of in advertensies tussen programme, op Facebook, en langs die snelweg?  1 Korintiërs 7:1-9 sal vir jou wys hoe.

 

Geniet die voordele van die huwelik (v.1-5, 9)

Vir sy verjaarsdag maak Jerry se vrou vir hom ‘n vyfgang maaltyd:

 

Kreefkelkie

Biltong en feta sop

Lam skenkel met gebakte aartappels

Mediterreense groente en haloumi slaai

Deense roomys met neute en ryk Swiss sjokoladesous

Jerry se gunsteling kase en sout biskuitjies

 

Na ete probeer Jerry se kinders om hom te versoek met suurwurms, marshmallows, spookasem, en suigstokkies.  Hulle misluk.

 

So is dit met seks:  as jy versadig word by die huis, is die kanse minder dat jy die wêreld se besmette brakwater sal drink.

 

Die Korintiërs het vir Paulus ‘n brief geskryf, waarin hulle ‘n klomp vrae gevra het (v.1, 8:1, 12:1).  In hfst.7 antwoord Paulus hulle vrae oor die huwelik, enkelskap, egskeiding, en hertrou.

 

Sommige van die Korintiërs het met prostitute geslaap (6:15).  As gevolg van die immoraliteit wat in Korinte geheers het, het ander gesê dat die huwelik en seks ongeestelik is (v.1, 1 Timoteus 4:3).  In die verse wat volg antwoord Paulus hierdie beswaar.

 

Soos die Korintiërs moet ons nie toegee aan die wêreld se versoekings om seksueel losbandig te wees nie.  Hoe doen ‘n mens dit?  Moenie saam met iemand in die bed spring of by hulle intrek nie.  Trou as jou drang te groot is (v.1-2, 9).  Moenie soos baie jong mans wees wat nie wil ‘commit’ nie, wat eers oorsee wil gaan vir 5 jaar, eers op 32 wil trou, vir 3 jaar verloof wil wees nie.  Laat asseblief jou dogter toe om te trou as sy die regte man ontmoet het.  Moenie vir haar sê:  ‘Jy moet eers vir 4 jaar gaan studeer’ nie (v.36).

 

Jou seksuele begeerte is natuurlik.  Ja, om te trou omdat jy van begeerte brand is nie die beste motief nie.  Maar dit is beter om te trou as om van begeerte te brand (v.9).  Paulus sê nie die huwelik is beter as enkelskap nie, maar dat dit beter is as om te brand.

 

Maar trou op sy eie is nie genoeg om seksuele versoeking te weerstaan nie.  ‘n Sekere Ruth Smythers, vrou van ds. L.D. Smythers, het in 1894 die volgende oor seks geskryf in Instruction and Advice for the Young Bride:

 

‘One cardinal rule of marriage should never be forgotten:  GIVE LITTLE, GIVE SELDOM, AND ABOVE ALL, GIVE GRUDGINGLY… Most men, if not denied, would demand sex almost every day.  The wise bride will permit a maximum of two brief sexual experiences weekly during the first months of marriage.  As time goes by she should make every effort to reduce this frequency.  Feigned illness, sleepiness and headaches are among the wife’s best friends in this matter.  Arguments, nagging, scolding and bickering also prove very effective if used in the late evening about one hour before the husband would normally commence his seduction

 

Clever wives are on the alert for new and better methods of denying and discouraging the amorous overtures of the husband.  A good wife should expect to have reduced sexual contacts to once a week by the end of the first year of marriage and to once a month by the end of the fifth year of marriage.  By their tenth anniversary many wives have managed to complete their child bearing and have achieved the ultimate goal of terminating all sexual contacts with the husband.  By this time, she can depend upon his love for the children and social pressures to hold the husband in the home.’[1]

 

‘n Man wie se vrou gereeld moeg is, hoofpyn het, nie lus is nie, en sê:  ‘Wag tot môre,’ sal seks soek by sy sekretaresse, ‘n prostituut, of in pornografie.  ‘n Vrou wie se man haar nie liefhet en koester nie, wat gedurig saam met die manne rugby kyk terwyl sy alleen by die huis is met die kinders, wat gereeld vir lang tye weg is vir besigheid, sal seks soek by ‘n man wat haar spesiaal laat voel, in romantiese boeke en films, in ‘n emosionele band met iemand, in pornografie, in haar dagdrome oor ‘n prins op ‘n wit perd.

 

Moet daarom nie die verskuldigde huweliksregte van mekaar af terughou nie (v.3).  Jou liggaam is nie jou eie nie, maar God s’n en jou huweliksmaat s’n (v.4, 6:19-20).  Immorele seks is soos ‘n bloedsuier wat altyd meer wil hê.  Seks in ‘n Christelike huwelik gaan nie oor wat jy kan kry nie, maar wat jy kan gee (v.4).

 

Die dag toe jy getrou het, het jy jouself weggegee.  Dus kan jy nie lewe asof jou liggaam jóúne is nie (v.4).  Jy kan nie seks gebruik om jou maat mee te straf of te manipuleer nie (‘Jy moet eers __ anders kry jy niks’).  Omdat jou liggaam nie jou eie is nie, kan jy ook nie jouself bevredig nie (v.4).

 

Is jy ongetroud?  Jy het nie mag oor iemand anders se liggaam, of hulle oor joune nie.  Seks is bedoel vir die huwelik (v.4, Hebreërs 13:4).

 

Die algemene reël is dat jy nie seks in die huwelik moet weerhou nie.  Tog is daar uitsonderings:  [1] Jy en jou maat moet instem om vir kort tydjie (nie vir maande of jare nie) seks te weerhou, sodat julle ekstra tyd kan gee aan vas en gebed (v.5, Eksodus 19:15, Prediker 3:5).  [2] Soms dwing oorlog of soortgelyke omstandighede ‘n mens om seks vir ‘n tyd lank op te gee (Deuteronomium 24:5, 1 Samuel 21:4-5).

 

Ná die bepaalde tyd moet die man en vrou weer bymekaar kom, anders sal Satan hulle gebrek aan selfbeheersing gebruik om hulle te versoek tot wellus en egbreuk (v.5, 2).  Goeie en gereelde seks is normaal.  Om een keer per jaar seks te hê is abnormaal en gevaarlik (v.5).  Soek hulp as jý in dié situasie is.  As jy aan seksuele sonde toegee sal jy dalk hel toe gaan (6:9-10, Hebreërs 13:4).

 

Geniet die voordele van enkelskap (v.6-8)

Voor hy getrou het, het my vriend ‘n stryd gehad.  Hy het geweet dat enkelskap voordele het wat hy sou moes opgee as hy getrou het.  Dit sou byvoorbeeld makliker gewees het om as enkel man na ‘n vervolgde land toe te gaan vir sendingwerk.  Dis juis om sulke redes wat Paulus enkelskap aanmoedig in v.6-8.

 

Paulus sê nie dat enkel mense móét trou nie, maar dat dit God se gawe of vergunning is om ons te help in ‘n seksmal samelewing (v.6, 1-5).  Dit sou goed gewees het as die Korintiërs enkel kon bly soos Paulus; as hulle kon oorleef sonder seks en die huwelik.  Paulus weet egter dat nie almal hierdie gawe het nie (v.7, Matteus 19:11-12).  Sommige het die gawe gekry om te trou en sal sukkel om enkel te wees.  Ander het die gawe gekry om enkel te wees en sal moeilik ‘n huis, lewe, en liggaam deel met iemand anders (v.7).

 

In v.8 praat Paulus met dié wat nie huweliksmaats het nie:  weduwees en ongetroudes.  Volgens v.10-11, 34 verwys ongetroudes na mense wat nog nooit getroud was nie, asook na mense wat geskei is.  Om enkel te wees is goed.  So iemand is nie slegter af as iemand wat getroud is nie.  As jy enkel is hoef nie jy oor ‘n maat en kinders besorg te wees as daar vervolging kom nie (v.26-28).  Jou aandag is ook nie verdeeld tussen die Here en jou gesin nie (v.32-35).  Paulus self was waarskynlik getroud en ken die voordele van die getroude, sowel as die enkel lewe (v.8, Handelinge 26:5, 10[2]).

 

Is jy enkel?  Geniet die voordele van enkelskap solank jy dit het.  Moenie dink jy mis uit op die goeie lewe, of dink jy is ongetroud omdat daar iets fout is met jou nie (‘Ek is te kort, te lank, te dom, te vet, te maer, te weird, te oud’).  Glo eerder dat jy nou enkel is, omdat God in sy soewereine keuse so besluit het (v.7).  Kan God sy Seun vir jou gee, maar nie ‘n huweliksmaat nie (Romeine 8:32)?

 

Moenie jouself bejammer, depressief en hopeloos raak, bitter wees teen God, ‘n fantasie wêreld skep deur films, sitcoms, en boeke, of wag vir ‘n prins op sy wit perd wat al jou probleme sal oplos nie.  Moenie enkelskap sien as ‘n straf nie, maar as ‘n gawe van God wat jou wil bevoordeel om Hom beter te dien (v.7, 32-35).  Moet daarom nie rondsit en wag vir die regte een nie.  Raak betrokke in die kerk, dien, bou goeie vriendskappe, groei geestelik, en leer by ouer gelowiges oor die huwelik.

 

As jy enkel is en graag wíl trou het ek vir jou ‘n paar wenke:

 

[1] Moenie jou idees oor die huwelik kry in tydskrifte nie, maar in die Skrif.

 

[2] Lees my preek, Opsoek na die regte huweliksmaat op die blog.  Dalk wil jy die huwelikseminaar bywoon wat volgende week begin.

 

[3] Moenie met romanse speel en dink jy kan jou hormone beheer en stop voor jy seks het nie.  Los sulke dinge vir die huwelik.  Werk eerder aan ‘n goeie vriendskap.

 

[4] Moenie te lank wag om te trou as jy die regte lewensmaat ontmoet het nie.

 

[5] Dink reg oor internet ‘dating’.  Dis nie dat internet ‘dating’ noodwendig verkeerd is nie, maar daar is ‘n paar waarskuwings.

 

  • Mense kan vir jou jok en die beste voet voorsit.
  • Die vrou kan ook op die internet rondsnoep om ‘n maat te soek. So neem sy ‘n manlike rol in en word sy die jagter.
  • Jy kan selfgefokus raak en kyk wat jy wil , eerder as om die regte maat te wees.
  • Niemand kan sien hoe die verhouding ontwikkel nie. Baie dikwels is ‘n geheime verhouding ‘n gevaarlike verhouding (Spreuke 18:1).
  • Jy kan twee, drie of meer persone gelyk ‘date’.
  • Die fokus is verkeerd om: romanse voor vriendskap.
  • Iemand kan ‘n ongeredde kerkmens wees, en tog ‘Christen’ sê op sy status.

 

[7] Verliefdheid is ‘n emosie.  Liefde is om op te offer en ander bo jouself te stel.  Moenie die twee verwar nie.

 

[8] Moenie hoër standaarde as God hê, sodat jy weier om te trou as iemand nie aan jóú standaarde voldoen nie (hy moet lank wees…sy moet van sport hou).  Aan die ander kant moet jy nie die duidelike standaarde van die Bybel prysgee of kompromeer nie.

 

[9] Moenie met ‘n ongelowige trou nie (v.39).

 

[10] Moenie met iemand slaap, omdat jy dink jou biologiese klok loop uit en jy graag ‘n kind wil hê nie.  God kan vir jou ‘n kind gee as jy 90 of 100 is (Genesis 17:7, 21:2, 5, vgl. Lukas 1:36-37).

 

Hoekom moet jy die voordele van enkelskap geniet terwyl jy dit het?  As jy eers getrou het, kan jy nie sommer uit die huwelik nie.

 

Watse boek in die Bybel word die minste uit gepreek?  Het jy al ooit ‘n reeks preke uit Hooglied gehoor?  Sal jy skaam, ongemaklik, of kwaad wees as jou ds. ‘n reeks uit Hooglied preek?  Lees jy dit ooit in jou stiltetyd?  Tog is tekste soos Hooglied en 1 Korintiërs 7 (gesonde seks in die huwelik) God se oplossing vir Christene in ‘n seksmal samelewing.

 

Die wêreld blêr hulle gemors in Christene en hulle kinders se ore, terwyl kerk met die waarheid sit, maar hulle hande vou, hulle lippe styf trek, en sê:  ‘Ons praat nie oor sulke goed in die kerk nie.’  Gevolglik is daar gedurig skandes in die kerk.  Die kanse dat ons kinders in só ‘n samelewing oorleef sonder om besmet te word is klein, tensy ons ons hande uit ons sakke haal, ons Bybels oopmaak, en hulle reg leer.

[1] C.J. Mahaney, Sex, Romance and the Glory of God, pp.105-107

[2] Paulus was op die Joodse Raad.  Om deel te wees van die Raad moes jy getroud wees.  Het hy sy vrou in die dood verloor, of dalk deur egskeiding toe hy ‘n Christen geword het (v.15)?

God en jou familie probleme

Joseph and his brothers

In die Tweede Wêreld Oorlog het Duitsland ‘n Spaanse spioen Engeland toe gestuur.[i]  Hulle wou weet hoeveel Hurricanes en Spitfires (vliegtuie) die Britte gehad het.  Toe die spioen in Engeland kom het hy hulle gevra om hom Skotland toe te vat.  Hulle het geweet hy is ‘n spioen.  Omdat hulle nie baie vliegtuie gehad het nie, het hulle ‘n slim plan gemaak.  Hulle het hom Skotland toe gevlieg en onder die wolke gebly.  ‘n Paar honderd Britse vliegtuie het bo die wolke gevlieg.  Hulle het afgesak tot onder die wolke.  Toe die spioen se vliegtuig verby is, het hulle weer bo die wolke uitgestyg, vooruit gevlieg, en weer deur die wolke afgesak.  So het hulle aangehou tot by Skotland.  Die spioen het dus oor en oor dieselfde vliegtuie gesien, maar gedink dat dit elke keer ander vliegtuie is.  Hy het teruggegaan Duitsland toe en gerapporteer:  ‘Die Britte het derduisende vliegtuie.’  Soms is ons so.  Ons weet nie wat bo die wolke (in die hemel) aangaan nie, en maak dan ‘n verkeerde opsomming van ons omstandighede op grond van wat ons sien.  Dit is wat Jakob in Genesis 37 gedoen het.

 

Jaloesie (v.2-11)

 

2 Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers—hy was nog jonk—met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader.  En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring. 3 En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak. 4 Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.

 

5 Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het.  Daaroor het hulle hom nog meer gehaat. 6 Hy het naamlik vir hulle gesê:  Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. 7 Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig. 8 Toe sê sy broers aan hom:  Wil jy miskien oor ons regeer?  Of wil jy miskien oor ons heers?  En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.”

 

9 Daarna het hy nog ‘n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê:  Kyk, ek het nog ‘n droom gehad—die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. 10 Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê:  Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het?  Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig? 11 En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.”

 

Josef was 17 jaar oud (v.22).  Die outeur gee vir ons hierdie inligting, omdat Josef vir 22 jaar nie sou pa sou sien nie.  Dit leer vir ons dat God dikwels lank vat om sy planne uit te werk.  Moenie ongeduldig raak as jy na 18 maande nie ‘n antwoord kry nie.  Josef het kleinvee opgepas saam met die seuns van sy pa se byvroue, Bilha en Silpa (v.2).  Leer tog hoeveel probleme poligamie veroorsaak!  Josef het nuus van sy broers aangedra (v.2).  Het sy pa hom hierin aangehits (v.14)?  Ons weet dat sy pa hom voorgetrek het.  Hy het vir hom ‘n spesiale kleed gemaak (v.3).  Dit mag wees dat hy dié kleed gekry het om te wys dat die geboortereg nou aan hóm behoort het (35:22, 49:3-4, 1 Kronieke 5:1).  As kind is Jakob voorgetrek (25:28).  Hy het een van sy vroue voorgetrek (29:30).  Noudat sy gunsteling vrou dood was (35:19), het hy vertroosting in haar seun Josef gevind.  Josef se broers was jaloers en bitter.  Net soos wat hulle ma’s onder mekaar baklei het (30:15), het die broers mekaar gehaat (v.4).

 

Hulle het hom meer gehaat toe hy sy drome met hulle gedeel het – veral omdat hy gesê het hulle sal voor hom buig (v.5-11).  Selfs Jakob het sy seun hieroor aangespreek:  “Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het?  Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?” (v.10).  Sy pa het egter nie net die drome afgeskryf nie, maar daaroor nagedink (v.11).  Later het die drome waar geword en het sy broers voor hom gebuig (42:6, 9, 43:26, 28, 44:14, 50:18).  Die feit dat Josef twee soortgelyke drome gehad het, wys dat hulle twee keer Egipte toe sou kom om voor hom te buig, en dat dit verseker sou gebeur (sien 41:32).  Drome het ‘n baie belangrike rol in Josef se lewe gespeel (hfst.37, 40-41).  Omdat ons God se volle openbaring in die Skrif het, hoef Hy nie meer deur drome met ons te praat nie (Hebreërs 1:1).

 

Slawerny (v.12-28)

 

12 En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas. 13 Toe sê Israel vir Josef:  Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie?  Kom, laat ek jou na hulle toe stuur.  En hy antwoord hom:  Hier is ek! 14 Toe sê hy vir hom:  Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug.  So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom. 15 Daarop kry ‘n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom:  Wat soek jy? 16 En hy antwoord:  Ek soek my broers.  Vertel my tog waar hulle die vee oppas. 17 Toe sê die man:  Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê:  Laat ons na Dotan gaan.  En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind.

 

18 En hulle het hom van ver af gesien.  Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak. 19 En hulle het vir mekaar gesê:  Daar kom daardie dromer aan! 20 Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê:  ‘n Wilde dier het hom opgeëet.  Dan sal ons sien wat van sy drome word. 21 Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê:  Laat ons hom nie doodslaan nie. 22 Ruben het ook vir hulle gesê:  Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie—sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring. 23 En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het, 24 en hulle neem hom en gooi hom in die put.  Maar die put was leeg; daar was geen water in nie.

 

25 Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien hulle meteens ‘n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gílead kom—hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom op pad om dit na Egipte af te bring. 26 Toe sê Juda aan sy broers:  Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg? 27 Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees.  En sy broers het na hom geluister. 28 En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer.  En húlle het Josef na Egipte gebring.”

 

Jakob het geweet dat sy ander seuns jaloers was op Josef.  Hy was bang dat hulle hom iets sou aandoen.  Daarom het hy hom in die tent gehou:  hulle moes alleen buite in die warm son werk (v.12, 25:27).  Jy kan jou verbeel hoeveel hulle hom nóú gehaat het.  Jakob het vir Josef gestuur om te kyk hoe dit met die veeboerdery in Sigem gaan (v.13-14).  Sigem was 80 km noord van Hebron.  Toe Josef by Sigem kom was sy broers nie daar nie.  ‘n Man het vir hom gesê dat sy broers nóg 25 km noord in Dotan was (v.15-17).  Josef se boeties het hom op ‘n afstand aan sy nuwe kleed herken.  Hulle het besluit om die dromer dood te maak, sy lyk in ‘n droë put te gooi, en te sê dat ‘n leeu of ‘n beer hom verskeur het (v.18-20).  Hulle bitter gedagtes het nou in moordlus verander (1 Johannes 3:15).

 

Ruben (die oudste) het hulle plan probeer keer.  Hy het voorgestel dat hulle hom eerder net in ‘n droë put moes gooi.  Hy het beplan om hom later uit te help en huis toe te stuur (v.21-22).  Hoekom het Ruben dit gedoen?  Was hy net besorg oor Josef, of het hy geweet dat sy optrede in 35:22 sy geboortereg in gedwang gebring het? (v.21-22).  Wou hy weer sy pa se guns wen?  Die boeties het Ruben se raad gevolg.  Hulle het Josef se kleed gevat en hom in ‘n droë put gegooi (v.23-24).  Klere het ‘n groot rol gespeel in Josef se lewe.  Potifar se vrou wou met Josef slaap en het hom aan sy kleed gegryp.  Hy het gevlug en sy kleed in haar hand gelos.  Sy het gesê dat hy háár wou verkrag (39:12-13, 15-16).  Arme Josef het in die tronk beland.  Toe Josef uiteindelik uit die tronk uitkom, het hulle vir hom nuwe klere aangetrek (41:14).  Farao het hom oor die land aangestel en vir hom koninklike klere aangetrek (41:42).  Josef sou ook weer in ‘n put beland en uitgehelp word (40:15, 41:14, die Hebreeus vir ‘gevangenis’ is dieselfde woord wat in 37:20, 22-24, 28 met ‘put’ vertaal word).

 

Terwyl Josef in die put was het sy boeties alleen geëet en niks vir hom gegee nie.  Hulle het gesien hoe handelaars met hulle kamele aankom.  Juda het voorgestel dat hulle nie vir Josef doodmaak nie – hy was immers hulle broer.  Hulle moes hom eerder aan die handelaars verkoop.  Ten minste sou hulle dan ‘n bietjie wins gemaak het.  Hulle het hom vir 20 stukke silwer verkoop (v.25-28).  Dwarsdeur sy lewensverhaal word dit duidelik dat Josef ‘n tipologie van Christus is:

 

  • Josef se broers sou voor hom buig. Elke knie sal voor Jesus buig (Filippense 2:10).
  • Josef se broers het hom verwerp. Jesus se broers het nie in Hom geglo nie (Johannes 7:5).
  • Josef se pa het wel met hom geraas, maar hy het Josef se drome in sy hart oordink. Maria het nagedink oor dít wat van Jesus gesê is (Lukas 2:19).
  • Josef se broers het hom vir silwer verkoop. Een van Jesus se eie dissipels het Hom vir silwer verkoop (Matteus 26:14-15).
  • Josef se broers het sy klere gevat. Die soldate het Jesus se klere gevat en onder mekaar verdeel (Matteus 27:31, 35).

 

Tragedie (v.29-36)

 

29 Toe Ruben by die put terugkom, was Josef nie in die put nie!  Daarop skeur hy sy klere, 30 en hy gaan na sy broers terug en sê:  Die seun is nie daar nie!  En ek, waar moet ek heen? 31 Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag ‘n bok en steek die rok in die bloed, 32 en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die woorde:  Dit het ons gevind.  Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie. 33 En hy het dit herken en gesê:  Die rok van my seun!  ‘n Wilde dier het hom opgeëet.  Verskeur, verskeur is Josef! 34 Toe skeur Jakob sy klere en trek ‘n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank. 35 En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê:  Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal!  So het sy vader hom dan beween. 36 En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Pótifar, ‘n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.”

 

Ruben was nie daar toe die boeties vir Josef verkoop het nie.  Toe hy terugkom en besef wat gebeur het, het hy sy klere geskeur.  As oudste broer sou sy pa hóm verantwoordelik gehou het (v.29-30).  Wat moes hy doen?  Hy het besluit om saam met sy broers te lieg.  Hulle het ‘n bok geslag en Josef se kleed in die bloed gedoop.  Jakob het sý pa met ‘n bok bedrieg (27:16), en nou het sy seuns hóm met ‘n bok bedrieg (v.31-33).  Hulle het die bebloede kleed vir hulle pa gestuur:  “Dit het ons gevind.  Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie.” (v.32).  Let op dat hulle nie sê:  ‘Kyk of dit Josef s’n is nie,’ maar ‘Kyk of dit u seun s’n is.’  Hulle het hulle broer afgeskryf.  Hy is nie ‘ons broer’ nie, maar ‘u seun’ (sien Lukas 15:30).  Toe Jakob die kleed sien, het hy sy klere geskeur en ‘n roukleed aangetrek (v.34-35).  Drie keer in hierdie hoofstuk word klere geskeur:  Ruben s’n, Josef s’n, en Jakob s’n (v.29, 31, 34).  Jakob het geweier om vertroos te word.  Gelowiges mag huil, maar dit is verkeerd en ongesond om só te treur.  Jakob het nie so getreur toe Dina verkrag is of Ragel en Isak dood is nie (34:5, 35:19, 29).  Josef was vir hom ‘n afgod.  Christene treur nie soos heidene wat geen hoop het nie (1 Tessalonisense 4:13).  As Jakob net geweet het dat Josef nie dood was nie.  Hy was in Egipte en het ‘n slaaf geword van Potifar, die kaptein van Farao se lyfwag (v.36).

 

Lyk jou huis soos Jakob s’n in Genesis 37?

 

  • Stief familie.
  • Enkel ouers (35:19).
  • Voortrekkery.
  • Boelies.
  • Jaloesie.
  • Bitterheid.
  • Bakleiery.
  • Onvriendelikheid.
  • Nuusdraers.
  • Gedagtes van moord. Julle wens mekaar weg. Jy wens jou broer wil in ‘n koshuis bly, of jy wens jou halfsuster wil by haar regte ma gaan bly.
  • Haat.
  • Leuens.
  • Nydigheid, sodat mense jaloers is op mekaar se besittings en dit nie respekteer nie.
  • Mense maak mekaar seer (Josef het sekerlik seergekry toe hulle hom in die droë put gegooi het).
  • Mishandeling. Jy word dalk nie as ‘n slaaf verkoop nie, maar jy word gemolesteer of aangerand.
  • Boosheid.
  • Tragedie.
  • Trane.
  • ‘n Stywe atmosfeer (v.35).

 

Dit is tragies dat die familie in Genesis 37 God se uitverkore geslag was.  En dis tragies dat Christen-gesinne en kerke dikwels so lyk.  Is jy skuldig aan enige van die dinge in die lys hierbo?  God wil hê jy moet jou van jou sonde bekeer.  Is jy miskien ‘n slagoffer van hierdie dinge?  Josef was ‘n slagoffer, maar die Here het alles vir die goeie uitgewerk.  Josef was betyds in Egipte om koring op te gaar, sodat sy familie die hongersnood kon oorleef (45:5, 8, 50:20).  As sy familie uitgesterf het, sou die Messias nie gekom het nie – die Messias is mos uit hiérdie nageslag gebore (Matteus 1:2).  God kan ook jou slegte omstandighede vir die goeie uitwerk en jou meer soos Jesus maak (Romeine 8:28-29).

 

God se Naam mag miskien in hierdie hoofstuk ontbreek, maar dit beteken nie dat Hy afwesig is nie.  God verskoon nie die boeties se sonde nie, maar werk ten spyte van, bo-oor en deur hulle sonde (Handelinge 2:23, 4:27-28).  God het die tragedie ten goede meegewerk vir Jakob.  Jakob kon nie God se groter plan raaksien nie (v.36).  Eers later het die Here vir hom gesê Josef lewe nog (46:3-4).  Wanneer dit met ons sleg gaan sien ons ook nie die groter prentjie nie (Job het nie geweet wat in Job 1-2 gebeur het nie).  Daarom moet ons eenvoudig vertrou God is wys, goed, getrou, sterk, en met ons.

 

‘n Vrou in Amerika het een Saterdagoggend kruideniers gaan doen.[ii]  Toe sy klaar was het iemand gesien hoe sy in die kar sit en haar hande agter haar kop hou.  Mense het gevra of alles reg is.  Sy het gesê hulle moet hulp kry:  ‘Iemand het my in die kop geskiet.  My breins is besig om uit te kom.  Ek sit al vir ‘n uur so om te keer dat dit uitkom.’  Die polisie het gekom en die kar oopgebreek.  Sy was nie geskiet nie en haar breins was nie besig om uit te kom nie.  ‘n Pillsbury buis (‘n muffin mengsel) het van die hitte ontplof en brooddeeg agter teen haar kop vasgeskiet.  Sy het gedink dis ‘n geweerskoot en het geglo dat die brooddeeg teen haar kop haar breins was.  Ons is baie keer soos dié vrou:  ons het nie ‘n akkurate beskouing van ons omstandighede nie, en dink dan die ergste.  Ons moet leer om die Here meer te vertrou – ook met ons familie probleme.

 

[i] Ek het die illustrasie gekry uit Dale Ralph Davis se boek, The Word became Fresh.

[ii] Ibid

Wees heilig

Snow white

Heilig beteken ‘afgesonder’:  God het ons afgesonder van die wêreld vir Homself.  Die eerste lesers – die Israeliete in die woestyn – was oppad om die Beloofde Land in te neem.  Kort voor die intog het God deur Moses vir hulle gesê:

 

“As die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy; en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie.  Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie—jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie; want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg.  Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand.” (Deuteronomium 7:1-5). 

 

God se opdragte in hierdie verse staan uit soos ‘n paal bo water:  [1] Moenie met die nasies om jou trou nie, want [2] hulle sal jou leer om afgode te dien – raak ontslae van hulle vuil afgode.  In Genesis 34:1-35:14 gee God vir hulle hierdie lesse in storievorm.  ‘n Storie het trefkrag en is makliker om te onthou.

 

Sonder jou af van die wêreld (hfst.34)

Jong Dina wou weet wat in die wêreld aangaan.  Sy was nuuskierig en het uitgegaan om te sien wat ánder jong meisies doen (v.1).  Sigem, die prins van die land, was wellustig.  Toe Dina eenkant was het hy haar gegryp en verkrag.  Hy het verlief geraak en teer woorde met haar gepraat om haar gewonde hart te probeer wen. Hy het haar in sy huis ingeneem en saam met haar begin bly (v.26).  In ou Israel het ouers hulle kinders se troues gereël.  Sigem het vir sy pa gevra om die bruidprys aan Dina se pa te betaal en die troue te reël (v.2-4).

 

Toe Jakob hoor dat sy dogter verkrag is het hy stilgebly.  Hy het sy hoofskap versaak.  Sy seuns was briesend en het leiding geneem in hierdie saak (v.5-7).  Sigem se pa, Hemor, het voorgestel dat sy familie en Jakob s’n ondertrou, die grond deel, en so een volk word.  Sy voorstel het die belofte van die land aan Abraham en sy nageslag bedreig (15:18):  in die toekoms sou Hemor en die Hewiete saam met Israel die land besit, en die Here se belofte verongeluk.  Iemand moes dringend intree.

 

Sigem was smoorverlief op Dina en sou enige bruidprys betaal (v.8-12).  Jakob se seuns het hulle kans gesien om hom te manipuleer:  om met Dina te trou, moes hy en sy stad besny word.  Indien hulle dit nie wou doen nie, sou hulle vir Dina vat, oppak en trek.  Soos hulle pa en oupa (Jakob en Laban), het hulle mense bedrieg.  Jakob het hulle misleiding gehoor, maar niks gesê nie.  Hy het sy vaderlike verantwoordelikheid versaak en toegelaat dat sy seuns die leiding neem (v.13-17).  Hemor en Sigem het Jakob se rykdom gesien en was al te gierig om ryk skoonfamilie te hê (v.23).  Hulle het vir die misleiding geval en die res van die stad oortuig om besny te word (v.18-24).  Drie dae na die operasie was die mans seer en buite aksie.  Twee van Dina se volbroers,  Simeon en Levi, het die stad se mans vermoor.  Hulle het vir Dina uit Sigem se huis gaan haal.  Die res van Dina se vol- en halfbroers het die stad geplunder –vee, geld, besittings, vroue en kinders (v.25-29).  Hemor, Sigem en die res van die mans het gedink dat hulle Jakob se rykdom sou kry, maar nou het Jakob húlle rykdom gekry.  Toe Jakob hiervan hoor was hy bang.  Hy het sy seuns aangespreek, nie oor hulle sonde nie, maar omdat hy bang was hy tel moles op met die bure (v.30).  Jakob het God se beloftes betwyfel, want hoe kon die vyand sy gesin uitwis as God aan hom ‘n groot nageslag belowe het?  Dina se broers het nie omgegee wat die bure dink nie:  ‘Ons suster is nie ‘n prostituut nie!’ (v.31), het hulle vir Jakob gesê.

 

Jakob het sy belofte van hfst.28 vergeet:  “Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet.  En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.  En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê:  As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.  En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.” (28:18-22).  Die Here het sý belofte gehou en Jakob veilig teruggebring.  Jakob móés Betel toe gaan, maar het nagelaat om sy belofte te hou.  Hy het Sigem toe getrek (33:18) en groot probleme vir sy gesin veroorsaak.

 

Hierdie hoofstuk leer vir ons om nie met ongelowiges uit te gaan of te trou nie (cf. 1 Korintiërs 7:39).  Ongelowiges dink anders as Christene oor Sondae, geld, kinderopvoeding, en die res van die lewe.  Moet veral nie uit desperaatheid met ‘n ongelowige trou, omdat jy na ‘n lang gewag nog nie ‘n Christen-maat ontmoet het nie.  Leer ook dat pa’s verantwoordelik is vir hulle dogters.  Jakob moes leiding neem, maar het nie.  Weereens dink die wêreld anders as ons oor hierdie saak.  Films soos Romeo & Juliet skep die idee dat ouers alewig in die pad staan van ware liefde.  In die wêreld het die ouers nie veel van ‘n sê nie:  die kinders moet vir hulleself besluit.  Volgens die Bybel moet ouers (veral die pa) betrokke wees in hulle dogters se keuse van ‘n huweliksmaat (Eksodus 22:16-17).  Pa’s moenie eers betrokke wil raak as hulle dogters 19 of 25 is nie, maar moet hulle dogters se harte bewaak wanneer hulle 5 en 12 is.  As jy jou kinders van kleins af help om die regte vriende te kies (v.1, 1 Korintiërs 15:33), sal hulle jou hulp verwelkom wanneer hulle die dag lewensmaats moet kies.

 

Sonder jou af van afgode (hfst.35)

Jakob het sy les geleer en sy gesin Betel toe gelei om die Here te aanbid (v.1, 3, 28:20-22).  Hy het hulle beveel om hulle afgode weg te gooi en hulle oorbelle af te haal (v.2).  Nie dat daar iets fout is met oorbelle nie, maar vir hulle kon dit maklik ‘n versoeking word om die oorbelle te smelt en goue godjies te maak (Eksodus 32:2-4, 33:5-6).  Ragel het afgode gehad (31:19) en dalk het Jakob se seuns afgode gekry by die vroue van Sigem (34:29).  Jakob het vir sy gesin gesê om hulle van hulle sonde te reinig (Jakobus 4:8), hulle te bekeer, en skoon klere aan te trek om hulle reiniging uit te beeld (v.2, Galasiërs 3:26-27).  Jakob het die afgode en oorbelle onder ‘n boom begrawe (v.4).  Hy wou uitbeeld dat hierdie dooie gode is, en dat sy gesin finaal klaar was met afgode.

 

Die Here het vir Jakob beskerm, sodat die omliggende stede hom nie aangeval het soos hy gevrees het nie (v.5, 34:30).  Daar aangekom, het Jakob sy belofte vervul, die plek herbenoem as Betel, en sy trou aan die Here herbevestig (v.6-7, 14-15).  God was tevrede met Jakob se poging.  Hy het aan Jakob verskyn, sy nuwe naam (Israel) en die beloftes wat Hy aan Abraham gemaak het, herhaal (v.9-13).

 

Wat sal jou reaksie wees as iemand kerk toe kom met ‘n Hindu afgod onder sy arm, en die afgod se kop streel terwyl hy lofliede aan die Here sing?  As jy ‘n ware Christen is sal jy geskok wees.  En tog bring ons afgode in ons harte saam kerk toe as ons kom om die Here te aanbid.  Paulus sê gierigheid is afgodery (Kolossense 3:5).  Hoe weet ‘n mens wat die afgod in jou hart is?  Vra vir jouself:

 

  • Wat oorheers my lewe?
  • Wat vul my dagdrome?
  • Wat maak my woedend en angstig?
  • Wat is vir my so belangrik, dat ek maklik stiltetyd of kerk daarvoor sal mis?
  • Waaraan spandeer ek die meeste van my tyd en geld?

 

Antwoorde sal wissel van TV tot kos, musiek, lekkergoed, geld, rook, werk, oefen, troeteldiere, ‘n sekere persoon, stokperdjies, jouself, sekuriteit, en vele meer.  Die Bybel sê:  “alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.” (1 Korintiërs 6:12).  “Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.” (1 Korintiërs 10:14).

 

Hoe moet jy hierdie afgode begrawe?  Moenie vir jouself geleenthede skep waar jy versoek kan word nie.  Verwyder dit wat jou versoek.  As sjokolade vir jou ‘n probleem is, moet jy nie sjokolade in jou yskas hou nie (Romeine 13:14).  Moet ook nie sê:  ‘Ek sal môre ophou rook’ nie.  Los dadelik dit wat vir jou ‘n probleem is.  Moenie uitsonderings toelaat of vir jouself ‘n agterdeur ooplos nie.  Begrawe die afgod heeltemal en moenie dat sy blink goue pens uitsteek nie.  Moenie jou verslawing verskoon of regverdig, sodat jy sê:  ‘Dis nie vir my ‘n probleem nie.’  Almal om jou kan sien dat kos vir jou ‘n probleem is.  Hoe gouer jý dit erken, hoe beter.  Los jou afgode.  Aanbid die ware God.  En as jy iets aan Hom belowe het, betaal jou beloftes.

 

The dearest idol I have known,

whate’er that idol be,

help me to tear it from Thy throne,

and worship only Thee

 

-William Cowper-

 

Om heilig te wees beteken nie dat jy ‘n strak gesig het, jouself afsonder soos ‘n monnik, of ‘n stel reëls navolg wat sê:  ‘Jy mag nie TV kyk, rook, ensovoorts’ nie.  Heiligheid is om afgesonder en rein te wees vir God in ‘n donker en bose wêreld:  “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.” (Johannes 17:15).

God se hulp vir probleem-verhoudings

Problem relationship

Almal van ons het al probleem-verhoudings gehad.  Daarom is Genesis 31-33 ‘n baie relevante hulp.

 

Jakob vlug vir Laban (hfst.31)

Iemand het eenkeer vir my gesê:  ‘Wanneer jy by mense kuier, weet jy dis tyd om huistoe te gaan wanneer hulle die brood begin dun sny en die koppies hard neersit.’  Toe Jakob vir Laban gewerk het, het vier dinge vir hom gesê dis tyd om huistoe te gaan:

 

[1] God het Laban se rykdom vir Jakob gegee.  Laban se seuns was jaloers op hom en het besef dat hulle dalk nie meer hulle erfdeel sou kry nie (31:1).

 

[2] Laban was nie meer sy vriendelike self nie (31:2).

 

[3] God het in ‘n droom vir Jakob gesê om te trek (31:3, 10-13).

 

[4] Na ‘n private gesprek in die veld het Jakob se vroue met hom saamgestem.  Hulle het gesien dat hulle niks by hulle pa sou kry nie – hy het hulle erfdeel opgebruik.  Hulle het erken dat die Here Laban se rykdom weggevat en dit vir Jakob gegee het (31:4-7, 15-16).

 

Twintig jaar tevore het God belowe dat Hy Jakob veilig sou terugbring (28:15).  Nou het God sy belofte vervul.  God het vir Jakob gehelp, sodat hy, ten spyte van Laban se skelm streke, baie ryk geword het (31:3-12).  Jakob het sy kans gevat en gevlug toe Laban besig was om skape te skeer.  Ragel het haar pa se huisgode gesteel.  Sy het gehoop dat hulle haar vrugbaar kon maak of geluk sou bring.  Die een wat geregtig was op die erfdeel het ook die huisgode gekry (31:17-21).  Toe Jakob drie dae weg was het Laban daarvan uitgevind.  Woendend het hy sy skoonseun agterna gesit en na sewe dae ingehaal.  Die aand voordat hy vir Jakob wou aanval het God hom in ‘n droom gewaarsku:  ‘Moenie vir Jakob met mooi woorde en vleitaal probeer terugbring om vir jou te werk nie.  Moet ook nie hard wees met hom nie.’ (31:22-24).  Die volgende oggend het Laban vir Jakob tegemoet gegaan.  ‘Hoekom het jy my dogters en my huisgode gesteel?’ het hy gevra.  ‘As jy net mooi gevra het, sou ek ‘n partytjie gehou het en jou in vrede weggestuur het.’  Jakob het geantwoord:  ‘Ek wou nie totsiens sê nie, omdat ek bang was jy vat jou dogters van my af weg.  En wat jou huisgode betref:  ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie.  Deursoek maar ons tente en ons tasse; die een wat jou gode gesteel het sal doodgemaak word.’  Jakob het nie geweet dat sy gunsteling vrou, Ragel, haar pa se gode gesteel het nie (31:25-32).

 

Laban het die tente deursoek.  Die gode was nie in Jakob, die slavinne, of Lea se tent nie.  Laban het in Ragel se tent ingegaan.  Sy het egter die klein huisgode onder haar kameel se saal weggesteek.  Sê dit nie vir jou iets van Laban se magtelose huisgode nie?  As hulle regtig gode was moes hulle mos self navore gekom het!  Ragel was ‘n leuenaar net soos haar pa en haar man.  Sy het vir Laban gesê:  ‘Jammer dat ek nie opspring nie pa; dis daardie tyd van die maand [haar maandstonde].’ (31:33-35).  Skielik het Jakob se skoonfamilie probleme erger geword.  Hy was woedend omdat sy skoonpa hom valslik beskuldig het:  ‘Ek het twintig jaar lank vir jou gewerk.  Ek het in die bloedige woestynson en die ysige woestynnagte jou vee opgepas.  Dikwels het die koue my wakker gehou.  As ‘n skapie op ander plase deur roofdiere gevang word, moet die eienaar self die verlies dra.  Maar toe dit op jóú plaas gebeur het, moes ék die verlies dra.  By jou was my salaris nooit vas nie.  Één dag belowe jy my die wêreld, en die vólgende dag betaal jy my skaars.  Jy het my salaris al ‘n dosyn of meer kere verander.  As my pa en oupa se God my nie beskerm het nie, sou jy my seker verniet laat werk en met leë hande weggestuur het.  is die skelm, nie ék nie!’ (31:36-42).  Die Here het op die moeilike manier vir Jakob geleer om hard te werk en eerlik te wees (kontrasteer dit met 25:26-27).

 

Laban was gierig en het gesê dat al Jakob se besittings aan hóm behoort het.  Hy het egter geweet dat hy nie meer vir sy dogters kon sorg nie, en het dus maar toegegee (31:43, 15).  Hy het gevra om ‘n verbond met Jakob te sluit.  Hulle het toe klippe op ‘n hoop gepak en ‘n klippilaar in die sand geplant.  Hulle het dit Jegar-Sahadúta, Gal-ed en Mispa genoem.  Die eerste twee name is Aramese en Hebreeuse woorde wat ‘hoop van getuienis’ beteken.  Mispa beteken ‘wagpos’.  Die hoop klippe en pilaar sou as getuies dien dat Jakob nie Laban se dogters sou verdruk, en dat die mans nie hierdie grens sou oorsteek om mekaar aan te val nie.  Laban het by die God van Abraham, Nahor en Tera (Nahor en Abraham se pa) gesweer.  Jakob was nie tevrede nie, omdat Nahor en Tera nie dieselfde God as Abraham gedien het nie.  Hy het toe by die God van Isak gesweer.  Jakob het ‘n offer gebring en saam met sy skoonpa ‘n verbondsete gehad.  Daarna het die mans in vrede verdaag (31:43-55).

 

Jakob vrees vir Esau (hfst.32-33)

God se engele het vir Jakob ontmoet toe hy Haran toe gevlug het, en ook toe hy teruggekeer het Kanaän toe (32:1, hfst.28).  Jakob het die plek Mahanáim of ‘twee kampe’ genoem; God se kamp en sy eie (32:2).  Hy het boodskappers gestuur om vir Esau te sê hy’s oppad.  Sy boodskappers het egter nooit die kans gekry om met Esau te praat nie.  Hulle het die nuus teruggebring:  ‘Esau is oppad met 400 manne.’  Jakob was baie bang.  Wat moes hy doen?  Hy het…

 

  • Beplan (32:6-8). Hy het almal saam met hom in twee kampe verdeel. As Esau die een kamp aangeval het, kon die ander een wegkom.
  • Gebid (32:9-12). Hy het die Here aan sy beloftes herinner.
  • Beplan (32:13-21). Hy het ‘n geskenk van 550 vee vir Esau gestuur met die hoop dat dít hom tot bedaring sou bring.
  • Gebid (32:22-32). Hy het met ‘n Man gestoei en gesmeek dat die Here Hom moes seën. Hy het die Man nie laat gaan totdat Hy hom geseën het nie.
  • Beplan (33:1-3). Hy het sy gesin in vier groepe verdeel. Hy het voorgeloop en sewe keer gebuig totdat hy naby Esau gekom het. Agter hom was sy twee slavinne met húlle kinders. Daarna het Lea met haár kinders aangekom. Heel agter was sy gunsteling vrou Ragel, met haar seun Josef.

 

Selfs ná sy eerste gebed was Jakob nie gerus nie.  Hy het sy vroue en kinders oor die Jabbok rivier gestuur en alleen agtergebly.  In die nag het ‘n Man aan hom verskyn.  Hy en die Man het gestoei.  Die Man kon maklik vir Jakob wen.  Om dit te wys het Hy sy heup uit pootjie gesit.  Omdat Jakob volhard het, het die Man toegelaat dat hy wen.  Toe dit begin lig word het Hy vir Jakob gesê om Hom te laat gaan.  As Jakob sy gesig gesien het sou hy sterf, “want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” (Eksodus 33:20).  Jakob het nou nie meer op ‘n skelm manier die seën probeer kry nie, maar het dit direk van die Here self gevra en gekry (32:26, 29).  God het sy naam verander van Jakob (hakskeen-gryper, bedrieër) na Israel.  Israel beteken ‘stoei met God’.  Jakob het met mense (Esau en Laban) gestoei en oorwin.  Nou het hy ook met God gestoei en die oorwinning behaal.  Jy het seker agtergekom dat die Man met wie hy gestoei het, die Engel van die Here was – God self.  Die profeet sê:

 

“In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel.  Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek.  By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek.” (Hosea 12:4-5). 

 

Jakob het agtergekom dat hierdie Man God was.  Hy het die plek Peniël (of Peneul) genoem.  Peniël beteken ‘Gesig van God’.  Jakob het vir God gesien en bly lewe.  Jakob se mank heup sou hom altyd aan hierdie nag herinner.  God se seën kom nie goedkoop nie; dit kom teen ‘n prys.  Wanneer die Jode vleis geëet het, het hulle nie die heupsening geëet nie.  Sodoende sou hulle hierdie episode in Jakob se lewe onthou.

 

Toe Esau sy broer sien het hy hom tegemoet gehardloop, omhels, gesoen, en gehuil.  Hy het Jakob se geskenk ontvang, maar was beskeie en wou dit nie aanvaar nie.  Toe hy Jakob se gesin sien was hy verbaas:  ‘Wie se vroue en kinders is dit?’ het hy gevra.  Jakob het gesê:  ‘Ek het al hierdie dinge van die Here ontvang omdat sy guns oor my is.  Met hierdie geskenk vra ek nou ook jóú guns.  Sal jy dit asseblief aanvaar?’ (33:1-11).  Esau het vir Jakob vergewe en sy geskenk aanvaar.  In die twintig jaar wat Jakob weg was het die Here in Esau se hart gewerk.  Nou wou Esau graag vir Jakob help en ‘n paar van sy manne los om hom te beskerm.  Jakob het sy aanbod van die hand gewys en gesê:  ‘Ek sal stadig agter jou aantrek en jou in Seïr ontmoet.’  Jakob het volgens sy ou naam opgetree en weer vir sy broer gejok.  Hy het Sukkot toe getrek en daar krale vir sy vee gebou.  Daarna het hy Sigem toe getrek.  Jakob het van Bet-el vergeet.  Hy het nie die belofte gehou wat hy in hfst.28 gemaak het nie:

 

“En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.  En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê:  As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.  En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.” (28:19-22).

 

Jakob se vergete belofte en sy besluit om Sigem toe te trek, het reuse probleme veroorsaak.  Daarvan vertel ek julle in die volgende preek.

 

Die Here het belowe dat die land Jakob en sy nageslag s’n sou wees.  Nou het Jakob nóg ‘n stuk grond besit.  Die eerste stuk was die begraafplaas wat hy by sy oupa Abraham geërf het (hfst.23).  Nou het hy ‘n stuk grond by die seuns van Hemor gekoop (33:19).  Hier het Jakob ‘n altaar gebou en dit El-Elohe-Israel genoem.  Dit beteken:  Die God van Israel is God.  Tot nou toe het Jakob altyd gepraat van ‘die God van Abraham…die God van Isak…die God van my vader’ (31:5, 42, 53, 32:9).  Nóú het hy gesê dat die Here sy God is.  Hy het sy belofte gehou:  “As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.” (28:20-21).

 

Watse lesse leer ons uit hierdie hoofstukke?

 

  • Het dit al ooit met jou gebeur dat iemand wat altyd gaaf was, jou ewe skielik ignoreer of beskinder; jaloers, lelik, ongeskik, en kortaf is? Ek weet dis nie lekker nie, maar ten spyte van hulle lelike optrede is die Here met jou en kan hierdie mense nie verder gaan as wat Hý toelaat nie (31:3-7, 23-24, 42).
  • Moenie soos Jakob van die probleem probeer vlug nie – dit sal net die probleem uitstel en vererger (31:20-23). Sit eerder om ‘n tafel en praat die probleem uit (31:44-55).
  • Bid nederig tot die Here en erken dat jy niks is nie (32:10). Herinner die Here aan sy beloftes (32:9, 12). Dank die Here vir sy goedheid aan jou (32:10). Smeek die Here om jou te antwoord (32:11). Volhard in gebed totdat die Here jou seën (32:26).
  • Maak planne om dadelik die probleem reg te stel (32:13-21). Jesus het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe. Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is” (Matteus 5:23-25).
  • Maak jou planne, maar moenie meer dáárop vertrou as op die Here nie (33:1-3).
  • Glo dat die Here die ergste verhouding kan regstel: Hy kan doen ver bo wat jy kan bid of selfs dink (31:55, 33:4, Efesiërs 3:20).
  • Moenie die fout herhaal nadat die verhouding herstel is nie (33:14, 16-17).
  • Onthou dat jou verhouding met God en jou naaste saam staan of val. Jakob se verhouding Laban en Esau kon eers regkom toe sy verhouding met God reg was. Jesus het gesê: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” (Matteus 6:14-15). In sy eerste brief skryf Johannes: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” (1 Johannes 4:20).

 

Bo enige menslike verhouding wat reggestel moet word, móét jou verhouding met God herstel word.  Deur sy kruisdood en opstanding het Jesus afgereken met dít wat skeiding tussen ons en God maak, naamlik sonde.  As jy jou van jou sonde bekeer en op Jesus vertrou, dan kan daar vrede en versoening wees tussen jou en God (Romeine 5:1).  As Jesus hiérdie verhouding kon herstel, kan Hy verseker jou probleem-verhoudings met ander mense uitsorteer.

Moeilike mense en God se genade

Angry people

Charles Spurgeon het gesê dat moeilike mense God se staalwol is om ons blink te hou.  In Genesis 29-30 sien ons hoe God moeilike mense en omstandighede gebruik het om Jakob te verander.

 

Jakob se troue (29:1-30)

Na ‘n lang reis het Jakob Haran bereik.  ‘n Paar herders met hulle skape het by ‘n put gesit.  Daar was ‘n baie swaar klip oor die put om te keer dat die water sou verdamp, sand inwaai, of skelms die water sou steel.  Dit sou moeite wees as elke skaapwagter die klip moes wegrol en weer terug skuif.  Buitendien kon nie elke herder die klip alleen skuif nie.  Daarom het hulle gewag totdat al die herders byeen was, voordat hulle water geskep het om hulle vee te laat drink (29:1-3).  God het belowe om vir Jakob te lei (28:15), en in 29:4-12 bring Hy hom reguit tot by Ragel en Laban.  Jakob was ‘n sterk man en het sonder enige hulp die klip geskuif.  Hy het dit seker ook gedoen om vir Ragel te beïndruk!  Na al die probleme by sy huis was hy verlig om familie te sien, en het gehuil.  Hy het vir Ragel gesoen (soos die Arabiere mekaar vandag op beide wange soen) en homself as haar neef voorgestel.

 

Ragel het vir haar pa gaan sê.  Toe Laban die nuus hoor, het hy vir Jakob verwelkom en hom ingenooi (29:12-13, cf. 24:29-31).  Toe Laban die storie van Esau hoor, het hy gesê:  ‘Waarlik, jy is my been en my vlees.’ (29:13-14, cf. 2:23).  Sy bedoeling was meer as net:  ‘Ons is familie.’  Hy het bedoel dat hy, net soos Jakob, lieg en bedrieg.

 

Toe Jakob ‘n maand daar was het Laban vir hom ‘n salaris aangebied.  Jakob het een ‘salaris’ in gedagte gehad:  Laban se aantreklike dogter Ragel.  Lea was die oudste, maar haar oë was dof.  Die Hebreeuse woord kan ‘sag’ of ‘swak’ beteken.  Die implikasie is dus dat sy baie mooi en sagte oë gehad het, maar dis al wat sy gehad het.  Of dit kan beteken dat sy swak oë gehad het; dat sy in ons tyd ‘n baie dik bril sou moes dra.  Ragel was mooi gebou en het ‘n mooi voorkoms gehad.  Hy wou háár hê.  Vir hom was dit glad nie moeite om sewe jaar te werk om haar te kry nie (29:15-20).

 

Toe die sewe jaar verby is, het Laban ‘n groot huweliksfees gehou.  Volgens gebruik het die vrou ‘n sluier aangehad en ‘n slavin (Silpa) as trou-geskenk gekry (24:59, 65).  In die donker nag het Jakob sy nuwe vrou in sy tent ingevat en met haar geslaap (29:21-24).  Toe hy in die oggend wakker word was dit nie Ragel nie, maar Lea!  In hfst.27 het hy sy pa bedrieg om te dink hy is die eersgeborene.  Nou het Laban hom met sý eersgeborene bedrieg.  Jakob moes sy eie bitter medisyne drink.  Laban het ooreengekom om vir hom Ragel ook te gee.  ‘n Week later het hy met haar getrou (sy het Bilha as slavin gekry), maar hy moes sewe jaar terugwerk.  Hy was liewer vir Ragel as vir Lea (29:25-30).  Laban het hom ingedoen, maar ook hiérin was God vír Jakob.  God sou vinnig die belofte van 28:14 vervul, en vir hom baie kinders gee.  Hy het binne sewe jaar 12 kinders gehad (hfst.30)!

 

Het die Here moelike mense oor jou pad gebring:  ‘n moeilike huweliksmaat, kinders, ouers, broers, susters, skoonfamilie, kollegas, bure?  As jy ‘n Christen is, doen die Here dit omdat Hy vír jou is.  Hy sal hierdie mense gebruik om jou soos Jesus te maak:

 

  • Josef se broers het hom as slaaf verkoop. Hulle wou téén hom wees, maar op die einde het God dit vir hulle en sy voordeel gebruik. Hy het Josef Egipte toe gestuur om baie mense uit die hongersnood te red (50:20).
  • Paulus het in die tronk beland omdat hy die evangelie gepreek het. Dáár het hy kans gekry om vir die wagte van Jesus te vertel. Skielik het ander gelowiges moed gekry om die evangelie te deel. Selfs sy vyande het begin om Jesus te verkondig, omdat hulle Paulus dieper in die moeilikheid wou bring (Filippense 1:12-18).
  • In 2 Korintiërs 12:7-9 sê Paulus: “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” ‘n Engel van Satan het gekeer dat Paulus hoogmoedig word. Die woord ‘engel’ beteken ‘boodskapper’ en verwys in 11:13-15 na die vals leraars. Die doring in Paulus se vlees was dus die vals leraars wat die lewe vir hom moeilik gemaak het. Hy het gevra dat die Here hierdie mense uit die kerk sou verwyder, maar die Here het hulle daar gelos om vir Paulus te laat groei.
  • Judas, Pilatus, die Jode, die Romeine, Herodes, en die soldate was teen Jesus en het Hom gekruisig. God het hulle boosheid vír ons gebruik om ons te red.
  • Martin Luther het gesê dat hy nooit so ‘n groot teoloog sou word as die duiwel en die Pous nie teen hom was nie.
  • In Rusland het die kommuniste ‘n pamflet laat druk met Bybelverse in. Hulle wou wys hoe dom en vol foute die Bybel is. Baie mense het daardeur tot bekering gekom.
  • In die vroeë kerk was daar baie vals leraars. In reaksie teen hulle het die apostles die Nuwe Testament geskryf.
  • In die vroeë kerk het vals leraars die wese van God, die Persoon van Christus, en die boeke van die Bybel bevraagteken. Die kerk moes ‘n geloofsbelydenis hieroor neerpen, en kon die Drie-Eenheid, Godheid van Christus, en 66 boeke van die Bybel deurdink en uitspel.
  • Ongelowige teologie-dosente het vir David Brainerd uit Yale Universiteit geskors. Brainerd het ‘n sendeling geword. Hy het joernaal-inskrywings gemaak. Na sy dood is sendelinge soos Henry Martyn, William Carey, en Jim Eliot daardeur geïnspireer.
  • In Frankryk is die Protestante (Hugenote) vervolg. Van hulle het Suid-Afrika toe gevlug en die evangelie saamgebring.

 

Hierdie voorbeelde onderstreep die waarheid van Romeine 8:28, 31:  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is… Wat sal ons dan van hierdie dinge sê?  As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”

 

Jakob se kinders (29:31-30:23)

God het gesien dat Lea ongeliefd was en het haar bejammer.  Hy het Ragel se moederskoot gesluit en vir Lea kinders gegee.  Die Messias is uit háár nageslag gebore.  Ruben was die eersgeborene.  Sy naam beteken seun, want in ou Israel was dit ‘n groot voorreg om seuns te hê.  Simeon beteken hoor, want die Here het gehoor dat Jakob haar nie liefhet nie.  Levi beteken geheg, want sy het gehoop dat sy en haar man nou aan mekaar geheg sou wees.  Juda beteken lof, want sy het die Here geprys dat sy vier seuns gekry het (29:31-35).  Sy het opgehou baar.

 

Ragel was jaloers en het vir Jakob gesê:  ‘Gee vir my kinders of anders sterf ek.’ (30:1).  Haar woorde is tragies vervul toe sy Benjamin gebaar het en daarna dood is (35:16-19).  Jakob het geweet dat net God kinders kan gee en het sy vrou bestraf (30:2).  Sy het haar slavin vir Jakob gegee, sodat sy deur Bilha kinders kon hê (hfst.16!).  Bilha het twee seuns gebaar (30:3-8).  Dan beteken oordeel, omdat die Here tussen Ragel en Lea geoordeel het.  Naftali beteken stoei, omdat sy met Lea gestoei en oorwin het.  Lea was jaloers en het Silpa vir Jakob gegee, sodat dié namens haar kinders kon baar.  Bilha het twee seuns gehad.  Gad beteken voorspoed, omdat baie kinders ‘n bewys van voorspoed was.  Aser beteken gelukkig, omdat nóg ‘n seun haar bly gemaak het (30:9-13).

 

Ruben het tydens die koringseisoen liefdesappels gekry en dit vir sy ma gebring (30:14).  Die plant het donker groen blare, pers blomme, en oranje vrugte gehad wat soos tamaties lyk.  Antieke mense het geglo dat die skerp en soet aroma van die ‘appels’ vrugbaarheid bring en jou seksdryf laat toeneem (Hooglied 7:13).  Toe Ragel dit sien wou sy daarvan hê.  Lea was bitter:  “Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy ook my seun se liefdesappels wil neem?” (30:15).  Poligamie (om meer as een vrou te hê) veroorsaak altyd probleme.  God se oorspronklike plan was dat elke man een vrou moet hê (2:24).  Ragel het gewoonlik by Jakob geslaap, maar het gesê dat Lea, in ruil vir die liefdesappels, met hom kon slaap (30:14-16, 25:31).  Arme Jakob is amper soos ‘n prostituut uitverhuur.  Dit het gou duidelik geword dat God, en nie liefdesappels nie, ‘n mens vrugbaar maak.  Selfs met die hulp van ‘n plant het Ragel nie swanger geword nie.  Met die hulp van die Here (sonder ‘tower appels’) het Lea nog twee seuns gehad.  Issaskar beteken huur, omdat sy vir Jakob met liefdesappels gehuur het.  Sebulon beteken eer, omdat sy gehoop het dat haar man haar nóú sou eer (nadat sy ses seuns vir hom gebaar het).  Sy het ook ‘n dogter gebaar:  Dina (30:17-21).

 

Ragel het besef dat haar man reg was:  die Here gee kinders.  Sy het gebid en swanger geword met Josef.  Sy naam beteken wegvat, omdat die Here haar vernedering weggevat het (in Bybelse tye was dit ‘n skande om nie kinders te hê nie).  Josef se naam kan ook byvoeg beteken, want sy het gevra dat die Here nóg ‘n seun vir haar moes byvoeg.  God het haar verhoor en in 35:19 vir Benjamin in die lewe gebring (30:22-24).

 

Was jy al soos Lea:  jy het hard gewerk om ‘n goeie verhouding met jou maat, ouer, kind, broer, suster, skoonfamilie, kollega te hê, maar is verwerp?  Dank God dat jy in hierdie opsig soos Jesus is, want Hy is ook deur sy familie en skepsels verwerp (Jesaja 53:3, Johannes 1:11, 7:5).  God sal jou aanvaar in Jesus, selfs al verwerp mense jou (Johannes 6:37, Hebreërs 13:5).

 

Jakob se voorspoed (30:25-43)

Toe Josef gebore is het Jakob die tweede siklus van sewe jaar voltooi, en wou hy huistoe gaan (30:25-26).  Pa en skoonseun het besef dat God Laban vir Jakob se onthalwe geseën en verryk het.  Skelm Laban wou nóg ryker word en het vir Jakob gevra om nog ‘n rukkie te bly (30:27-30).  As betaling wou Jakob al die bont vee hê.  Hy was bereid om eerlik hiervoor te werk (dis ironies, omdat Jakob voorheen ‘n bedrieër was).  Laban was al te bly, omdat hy geweet het daar was nie baie bont vee nie.  Die paar wat daar was het hy, sonder Jakob se wete, onders sy seuns se sorg geplaas en hulle weggestuur (30:31-36).

 

Jakob het stokke gevat en wit stroke daarin geskil.  Hy het dit voor die drinkbakke neergesit, sodat die vee dit kon sien as hulle paar (hulle het by die drinkbakke gepaar).  Jakob het geglo dat die vee die strepe sou sien, en bont kleintjies sou hê (30:37-39).  Omdat God se hand in die saak was, het die vee bont kleintjies gehad (31:10-12).  Jakob het die bont vee eenkant laat wei, sodat hulle nie weer sou uitbaster nie.  Wanneer die gesonde diere gepaar het, het hy die stokke neergesit.  Hy het dit weer weggeneem as die swakker diere gepaar het.  Sy plan was nie skelm nie, maar slim.  Oor ‘n tydperk van ses jaar het Jakob skatryk geword (30:40-43, 31:41).

 

Het iemand jou met geld gekul?  Dalk is jy beroof?  Iemand het leë beloftes gemaak en met jou geld verdwyn?  Iemand het aspris ‘n stukkende produk of kar aan jou verkoop?  Jou baas skuld jou geld?  ‘n Skelm maatskappy of mediesefonds sê jy skuld hulle geld en het jou aan die prokureurs oorhandig?  Iemand het bedrog met jou bankkaart gepleeg?  ‘n Werker het geld uit die besigheid gesteel?  Jou huishulp steel by jou?  God is vír jou en sal vir jou veg.  Dalk sal jy nie in hierdie wêreld vir die skade vergoed word nie.  Maar God sal jou in die hemel vergoed.  Een uur in die hemel sal opmaak vir al die verlies wat jy op aarde gely het.

Die oplossing vir gebroke verhoudings

Torn playing card

Hoeveel mense is daar in jou familie, vriendekring, skool, werkplek of kerk wat gebroke huwelike, huisgesinne of ander verhoudings het?  Hoe lyk jou verhoudings?  In Genesis 4 lees ons van die heel eerste gebroke huisgesin in die geskiedenis.

1 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê:  Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE. 2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar.  En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer. 3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. 4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet.  En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, 5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie.  Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. 6 En die HERE sê vir Kain:  Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? 7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie?  En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.

 

8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan. 9 Toe sê die HERE vir Kain:  Waar is jou broer Abel?  En hy antwoord:  Ek weet nie.  Is ek my broer se wagter? 10 En Hy sê:  Wat het jy gedoen?  Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af. 11 Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. 12 As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; ‘n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.

 

13 Daarop sê Kain vir die HERE:  My skuld is te groot om dit te dra. 14 Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig:  ‘n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan. 15 Maar die HERE sê vir hom:  Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word.  En die HERE het ‘n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie. 16 Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.”

Kain se offer (v.1-5a)

Kain was Adam en Eva se eersgeborene (v.1).  Eva het seker gehoop dat hý die beloofde nageslag van 3:15 was wat die slang se kop sou vermorsel.  Daarom sê sy:  “Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE.” (v.1).  Abel was hulle tweede kind (v.2).  Abel was ‘n skaapwagter en Kain ‘n landbouer wat in die vervloekte grond moes werk (sien 3:17, 19).

Na ‘n lang tyd het Kain en Abel offers vir die Here gebring.  God het Abel en sy offer aangeneem.  Volgens Jesus was hy ‘n profeet wat direkte openbaring van die Here ontvang het (Lukas 11:50-51).  God het in 3:21 ‘n bloedoffer gebring en vir Abel gesê om dieselfde te doen, want “sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.” (Hebreërs 9:22).  Abel het die vet van sy eersgebore lammers geoffer (elke Jood wat dít gelees het, het geweet die vet is die heel beste deel van die offer).  Hierdie gebaar wys vir ons dat Abel lief was vir God.  Abel het geloof gehad:  “Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was” (Hebreërs 11:4).  1 Johannes 3:12 sê Abel was regverdig.

God het vir Kain en sy offer verwerp.  Kain het nie ‘n bloedoffer gebring nie.  Hy het van die vrugte van die aarde gebring, en nie sy beste geoffer nie (v.3).  Sy gesindheid in v.5-7 wys dat hy nie lief was vir God nie.  Hy het nie geloof gehad nie (sien Hebreërs 11:4 hierbo).  1 Johannes 3:12 praat van “Kain wat uit die Bose was”.  Judas 11 plaas hom in dieselfde kategorie as vals leraars, Bileam en Korag:  “Wee hulle [die vals leraars], want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom.”

 

God wil nie hê ons moet Hom aanbid soos Kain nie.  In ons gemeentes en stiltetye mag ons God nie aanbid soos wat ons wil nie (Eksodus 20:4-6).  Jy kan nie geurige kerse opsteek om die regte atmosfeer te skep vir jou stiltetyd nie.  As jy in tale bid in jou stiltetyd, doen jy wat jý wil en nie wat God in die Bybel sê nie.  Moenie een koortjie 10 keer herhaal, omdat jy die Gees se teenwoordigheid wil voel nie.  Jy kan nie eredienste opgee, omdat jy nou op jou eie tyd en plek saam met jou gesin ‘kerk’ gaan hou nie.  Wil jy self saam met jou gesin nagmaal hou?  Dis verkeerd.  Jy aanbid soos Kain:  jy doen wat jý wil en nie wat God in sy Woord sê nie.

Dalk doen jy wel wat die Bybel sê, maar jou hart is nie reg nie.  Sorg dat jy jou hart voorberei om God te aanbid:

  • Kry genoeg rus op ‘n Saterdagaand en Sondagmiddag, sodat jy nie moeg is in die erediens nie.
  • Vra vir die predikant uit watter teks hy gaan preek en oordink dit voor jy kerk toe gaan.
  • Bid dat die Here jou hart sal voorberei.
  • Bely alle sonde en kom met ‘n rein hart om God te aanbid.
  • Wees getrou in jou persoonlike stiltetyd – só berei jy jou hart voor om op ‘n Sondag die Woord te ontvang.
  • Konsentreer wanneer die predikant bid, Bybellees en preek.
  • Dink oor die woorde wat jy sing.
  • Kom met ‘n verwagting dat die Here jou gaan seën en met jou gaan praat in sy Woord.
  • Laat jou heilige lewe ‘n aanneemlike offer wees vir die Here:  “present your bodies as a living sacrifice, holy and acceptable to God, which is your spiritual worship.” (Romans 12:1, ESV).

God wil hê jy moet die beste offers vir Hom bring (soos Abel).  Maar Hy wil ook hê jou hart moet reg wees (soos Abel s’n).  Jesus het natuurlik die perfekte offer gebring.  En sy hart was ook reg.  Ons moet so wees en God in gees en waarheid aanbid (Johannes 4:24):  kom met ‘n regte hart (gees) en aanbid God volgens sy voorskrifte (waarheid).  As jy gebroke verhoudings gaan oplos moet dit begin by die kruis, want daar het Jesus die gebroke verhouding tussen ons en God kom herstel.

Kain se sonde (v.5b-9)

Kain het ‘n lang gesig gehad, omdat hy kwaad was vir God en jaloers op Abel (v.6).  As hy hom bekeer het was daar hoop en sou daar weer ‘n glimlag op sy gesig wees (v.7a).  Maar as hy volgehou het met sy sonde, sou dit hom bekruip soos ‘n leeu in die langgras en hom doodmaak (v.7b).  In John Owen se bekende woorde:  ‘You be killing sin, or sin will be killing you.’  Kain het nie vir God geluister nie.  Hy het met Abel gepraat en hom gevlei (of vir hom gelieg).  Hy het alleen saam met Abel in die lande ingestap en hom vermoor (v.8).  Toe God hom oor Abel ondervra, het hy gelieg en probeer om die verantwoordelikheid van homself af te skuif:  ‘Ek weet nie waar is Abel nie.  Ek pas hom nie op soos wat hy sy skape oppas nie.’ (sien v.9).

Haat jy iemand?  Is jy bitter, jaloers of kwaad?  Maak gou die sonde in jou hart dood, sodat jy nie later die gemors van ‘n egskeiding, gebroke gesin of moord moet uitsorteer nie.  Jesus het gesê sonde begin in die hart (Matteus 15:19).  1 Johannes 3:15 sê:  “Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.”  Deur sy kruisdood het Jesus nie net ons verhouding met God herstel nie, maar ook ons verhouding met ander mense (Efesiërs 2:14-16).  Kom in geloof na die kruis toe en bely jou sonde.  Maak dit dood met die hulp van die Heilige Gees wat in jou woon (Romeine 8:13).  En doen dan wat Efesiërs 4:31-32 sê:  “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.  Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”

Kain se straf (v.10-12)

Die grond was gevlek met Abel se bloed en het teen Kain getuig (v.10).  Kain sou vir die res van sy lewe vlug.  Omdat mense hom wou doodmaak, kon hy homself nooit op ‘n plek vestig nie.  Sodra hy geploeg en geplant het, sou hulle hom kry en agterna sit.  Sy boerdery kon net nie van die grond af kom nie – die eindste grond wat Abel se bloed ingedrink het (v.11-12).

As jou verhouding met God gebreek is, versuur dit jou verhouding met jou baas, werknemers, kollegas, kliënte.  Soos Kain kan jy nie jou werk in vrede doen nie.  Die gevolge is nadelig:

  • Jy is onsuksesvol.
  • Jy word afgedank.
  • Jy is gedurig werkloos.
  • Jy swerf rond van een werk na ‘n ander, omdat jy ‘n beter ‘werksomgewing’ soek.  Diep in jou binneste weet jy die probleem is nie jou omgewing nie, maar jou hart.  Jou verhouding met God en mense is nie reg nie.
  • Jy vind geen geluk in jou verhouding met mense nie.  Daarom jaag jy na geld in jou soeke na geluk.
  • Jy pleeg bedrog.  Soos met die vorige punt hoop jy geld sal jou gelukkig maak.  Maar dit doen nie, want geld kan nooit die leemte vul wat vir Gód bedoel is nie.
  • Jy slaap met die baas om sekere voordele te kry – voordele wat jy nie sou kry as dit afgehang het van die kwaliteit werk wat jy lewer nie.
  • Jy voel depressief en haat jou werk.
  • Jy lewe onder konstante werkstres.

Kain se berou (v.13-16)

Kain het homself bejammer en sy negatiewe lot beklae:  ‘Nou gaan ek ‘n onsuksesvolle boer wees, ek het geen guns by God nie, en ek het baie vyande’ (v.13-14).  Maar hy het hom nie bekeer nie.  Dit is hoe baie mense oor die hel voel:  hulle kla dat daar so ‘n plek is en noem God wreed, maar hulle hou nie op met hulle sonde nie.  God is genadig en sê vir Kain dat niemand hom sal vermoor nie (v.15).  En tog bekeer Kain hom nie.  Hy draai nogsteeds weg van God af (v.16).  Kain se berou was vals.

Toets jouself om te sien of jou berou eg is (cf. 2 Korintiërs 7:10-11):

  • Kla jy oor die gevolge van jou sonde?  Kla jy nie daarvan hou om skuldig te voel nie?  Kla jy omdat jy uitgevang is?  Of haat jy die sonde self?
  • Skuif jy die skuld van jouself af?  Of erken jy jou skuld?
  • Besef en erken jy dat jou sonde teen God is?
  • Bekeer jy jou van jou sonde?
  • Is jy kwaad vir jouself of vir God en ander?
  • Bejammer jy jouself?
  • Huil jy oor die voordele wat God van jou af wegvat, of omdat jy God se hart bedroef het en jou verhouding met jou Vader beskadig het?
  • Draai jy jou rug op jou sonde of op God en ander mense?
  • Vrees jy God se oordeel of kla jy daaroor en sê dis onregverdig?

Kain se sonde het skeiding gebring tussen hom en God, hom en Abel, hom en sy ouers, hom en ander mense.  Deur die res van Genesis sien ons dieselfde patroon tussen Ismael en Isak, Jakob en Esau, Josef en sy broers.  Jesus het gekom om deur sy kruisdood die gebroke verhouding te herstel tussen God, ons, en ander mense.