Die nuwe hemel en aarde

New heavens and earth

Natasha woon in ‘n baie arm gedeelte van Rusland.  Sy was nog nooit buite haar land se grense nie, en kan ook nie ‘n woord Engels praat nie.  Op ‘n dag toe ontmoet sy vir Pete, ‘n Amerikaner wat vir vyf jaar in Rusland gewerk het.  Hy kon vlot Russies praat.  Hulle het vriende geraak en uiteindelik met mekaar getrou.

 

A.g.v. Natasha se huwelik met Pete, het sy maklik Amerikaanse burgerskap verkry.  Sy kon egter nie die taal praat nie, en moes aan die kultuur gewoond raak.  Maar na tien jaar in die land kon sy vlot Engels praat, en het sy die kultuur aangeleer.  Wat sy aanvanklik net in teorie gehad het, het sy nou in die praktyk geniet.

 

En so is dit ook met die nuwe hemel en aarde.  Daar is ‘n sekere sin waarin ons reeds in die nuwe skepping deel.  Maar in ‘n ander sin sal ons eers die volheid daarvan geniet wanneer Jesus kom.  Dit is wat Johannes in Op.21:1-8 vir ons wil leer.

 

Die nuwe skepping (v.1)

Om een of ander rede het mense die idee dat God se kinders vir ewig in lugkastele gaan woon, gaan rond sweef, op wolke gaan sit, en op goue harpe gaan speel.  Is dit enige wonder dat baie mense nie ‘n begeerte het om daar te wees nie?

 

Die waarheid is eerder dat Jesus die hemelruim met sy sterre en planete, en die aarde met sy bome, berge, riviere, blomme, watervalle, diere, ens. gaan nuut maak.  Dit is o.a. hoe ons v.1 moet verstaan.

 

Johannes het ‘n nuwe hemel en aarde gesien; die eerste hemel en aarde het voor die Here weggevlug (v.1, 20:11).  Hy het dit gebrand en uit die rou materiaal die nuwe hemel en aarde geskep (2 Pt.3:10, 12-13).  Dit is dus nie soos die eerste skepping uit niks gemaak nie (Rm.4:17, Heb.11:3).

 

Soos Hy ons liggame uit die graf uit sal opwek, sal Hy ook die huidige hemel en aarde ‘opwek of wederbaar’ (Mt.19:28).  Alhoewel die nuwe hemel en aarde eers by die wederkoms vervul sal word (v.1), het dit reeds in saadvorm by Jesus se kruisdood begin.  Ons ervaar alreeds iets hiervan wanneer wedergeboorte in ons harte plaasvind:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel” (2 Kor.5:17a).

 

Maar die evangelie stop nie by die redding van sondaars nie.  Omdat Adam se sonde die skepping beïnvloed het (Gn.3:14, 17-18, Rm.8:19-22), sal Jesus die hemel en aarde van Gn.1:1 nuut maak (v.1, Hd.3:21, Kol.1:20).  Die see van die eerste skepping wat mense se dood veroorsaak het (20:13), sal nie meer bestaan nie (v.1).  Maar dit beteken nie dat daar nie ‘n nuwe, skadelose see sal wees nie.

 

Die nuwe Jerusalem (v.2-3)

Elke jaar is daar ‘n Baptiste Paaskonferensie op Cornelia, ‘n klein dorpie in die Vrystaat.  Daar is goeie prediking en heerlike samesang.  Een van die liede wat gesing word, gaan oor die Nuwe Jerusalem.  Dit is ‘n pragtige lied, maar daar is een sin in die lied wat nie Bybels is nie:  ‘Jerusalem, ewig daarbo.’

 

Volgens Op.21:2 sal die Nuwe Jerusalem nie vir ewig daarbo wees nie, maar sal dit na die aarde toe neerdaal.  Die stad verwys natuurlik na die mure, geboue, paleise, poorte en strate (v.9-27, Jh.14:2-3, Heb.11:10, 16, 13:14), maar dit verwys eintlik meer na die inwoners.  Ons is tog die hemelse Jerusalem en die bruid van die Lam (v.2, 9, 19:7-8, Ef.5:31-32, Heb.12:22).

 

Volgens v.2 en 9-27, sal die Nuwe Jerusalem – die huidige hemel – van God af na die aarde toe neerdaal, en die hoofstad van die nuwe aarde wees.  Die stad se hemelse afkoms beteken ook dat ons siele eendag saam met Jesus na die aarde toe sal terugkeer (v.2, Kol.3:4, 1 Ts.3:13, 4:14).  As Hy klaar ons liggame uit die graf uit opgewek en verheerlik het, sal Hy ons siele daarmee verenig (1 Kor.15, 1 Ts.4:13-18).

 

Omdat ons in ‘n sekere sin die Nuwe Jerusalem is, impliseer v.2 ook dat die kerk ‘n hemelse oorsprong het, en dat sy van God af kom.  Ons uitverkiesing, verlossing, wedergeboorte, roeping, regverdiging, heiligmaking, verheerliking kom van God af; ons is burgers van die hemelse Jerusalem (Jh.3:3, 5, Rm.8:29-30, Gal.4:26, Fil.3:20).

 

Volgens Johannes het die Nuwe Jerusalem gelyk soos ‘n bruid wat mooi gemaak is vir haar man (v.2, Jes.61:10).  Jesus het m.a.w. die stad voorberei (Jh.14:2-3).  Deur sy kruisdood, wedergeboorte en die Woord, het Hy ons ook vir Homself voorberei (19:7-8, Ef.5:25-27).

 

God het met ‘n harde stem uitgeroep dat Hy sy tabernakel onder ons opgeslaan het (v.3, Lv.26:11-12).  Dit het begin toe Jesus as mens in Betlehem gebore is (Jh.1:14, Gk.).  Toe Hy na die hemel toe opgevaar het, het Hy persoonlik deur die Heilige Gees in ons harte kom woon (v.3, Mt.28:20, Jh.14:21, 23).

 

Wanneer ‘n gelowige sterf en hemel toe gaan, en wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, sal sy teenwoordigheid tasbaar wees; Hy sal sy tabernakel oor die persoon sprei en hom veilig hou (v.3, 7:15).  Hy sal die Here van aangesig tot aangesig sien (v.3, 22:4, Mt.5:8, 1 Jh.3:2).

 

Die gemeenskap en die verbond wat in Gn.3 verbreek is, sal heeltemal herstel word (v.3).  Dit het reeds by Jesus se kruisdood begin (Jer.31:33, 2 Kor.6:18, Heb.8:10), maar sal in die hemel en op die nuwe aarde finaal vervul wees (v.3).  Ons – die Jode en heidene wat in Jesus glo – sal sy volk wees, en Hy sal ons God wees (v.3, 5:9, Tit.2:14, 1 Pt.2:9)

 

Die nuwe lewe (v.4-8)

Eric Clapton sing ‘n bekende liedjie waarin hy sê dat daar nie trane in die hemel is nie.  Ek wil nie graag my teologie by hom leer nie, maar ek moet sê dat hy op hierdie punt reg is.  In die hemel en op die nuwe aarde, sal God die trane van sy kinders se oë afvee (v.4, 7:17, Jes.25:8, kontr. Op.5:4).  Hy sal ook die dinge wat hierdie trane veroorsaak het, wegvat:  dood, droefheid, pyn, ens. (v.4).

 

Deur sy kruisdood en opstanding het Jesus die dood oorwin, sodat die dood vir God se kinders skadeloos is (Jh.11:25-26, Fil.1:21, 23).  En tog sal die vervloeking van Gn.2:17, 3:19 eers finaal verdwyn wanneer Jesus ons liggame uit die dood uit opwek (v.4, 20:14, Jes.25:8, 1 Kor.15:26, 55).

 

Alhoewel ons nie op begrafnisse treur soos ongelowiges wat geen hoop het nie (1 Ts.4:13), treur ons nogsteeds.  Maar wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, sal ons glad nie treur nie (v.4).  Ons sal ook geen emosionele of fisiese pyn ervaar nie (v.4, kontr. Gn.3:16-19).

 

Jesus het by sy eerste koms en deur wedergeboorte gewys dat Hy die ou dinge kan omkeer om nuut te word (Jh.2-3, 6, 9, 11, 20; 2 Kor.5:17).  By die wederkoms sal Hy dit finaal doen wanneer Hy vir ons onsterflike liggame gee en alles nuut maak (v.1, 4-5, 1 Kor.15).  As dit vir jou onmoontlik klink, kan jy weet dat dit so seker en betroubaar is soos die Bybel self (v.5).

 

Wanneer God dinge op hierdie manier nuut maak, is sy verlossingswerk voltooi (v.6).  Hy is die Alfa en die Omega[1], die Begin en die Einde (v.6, 1:8, 22:13).  Die skepping het in Gn.1 by Hom begin, en in Op.21 het Hy dit nuut gemaak; ons verlossing het voor die skepping in sy gedagtes begin, en sal op die nuwe aarde in Hom vervul word (Rm.8:29-30, Ef.1:3-14, Fil.1:6).

 

Om die lewende water van hierdie verlossing te geniet, hoef jy nie geld vir die kerk te gee of godsdienstige rituele te beoefen nie.  Dit is heetemal gratis en verniet.  Ontvang dit met die leë hande van geloof (v.6, 22:17, Jes.55:1, Jh.4:14, 6:35, 7:37-39).  As jy in die hemel en daarna op die nuwe aarde is, sal jy vir ewig in perfekte gemeenskap met Jesus lewe, en só uit die fontein van die lewe drink (v.6).

 

Hierdie geskenk is vir dié wat tot die einde toe volhard, en só die oorwinning behaal (v.6-7).  Húlle sal nou en vir ewig erfgename en kinders van God wees (v.7, 3, Rm.8:15-17, 2 Kor.6:18).

 

Deur hulle geloof in die Oorwinnaar (Jh.19:30, 2 Tm.1:10, Heb.2:14-15), sal hulle die volgende dinge oorwin:

 

  • Die wêreld (1 Jh.5:4-5).
  • Vervolging (2:10-11, Rm.8:37, 35).
  • Vals lering (2:17, 15, 1 Jh.4:4).
  • Die duiwel (12:11, 15:2).
  • Afvalligheid (2:7, 4).
  • Sonde (v.7-8, 3:4-5).
  • Geestelike louheid (3:21, 15-16).
  • Die dood (1 Kor.15:57, 54-55).
  • Die hel (v.7-8).

 

Daar sal mense wees wat nié oorwin het nie, maar deur die sonde oorwin is (v.8, Gal.5:19-21, 1 Kor.6:9-10).  Hulle lewens het o.a. só gelyk:

 

[1] Vreesagtiges of bangbroeke; mense wat te skaam was om vir Jesus te volg; ‘people pleasers’ wat sonde gedoen het, omdat hulle bang was mense hou nie van hulle nie.

 

[2] Trouelose of ongelowige mense.  Hulle het nie in Jesus geglo nie, en was ook nie lojaal aan die Here, sy Woord en sy liggaam nie.

 

[3] Gruwelike mense wat gruwelike dinge gedoen het.  Die dinge wat hulle gedoen het is so gruwelik, dat jy dit nie in ordentlike geselskap kan noem nie.

 

[4] Moordenaars.  Hulle het ander se lewens geneem, ongebore babas vermoor, en gedurig daaraan gedink om hulle eie lewens te neem.  As hulle dit nie gedoen het nie, het bitterheid en onvergewensgesindheid hulle gedagtes gevul.

 

[5] Hoereerders.  Die Griekse woord [pornos] praat van mense wat seksueel losbandig was: seks voor die huwelik, egbreuk, homoseksualiteit, bestialiteit, pornografie, kindermolestering, prostitusie, wellus, ens. (Mt.5:27-30, 1 Kor.6:9-10, Heb.13:4).

 

[6] Towenaars van enige soort:  dié wat hulle sterretekens in die Huisgenoot gevolg het, en op Jakaranda FM ingebel het om met die dooies te praat, asook dié wat in Satanisme betrokke was (Dt.18:9-14, Hd.19:19, Gal.5:20).

 

[7] Afgodsdienaars.  Sommige het voor beelde van hout, klip en metaal gebuig, terwyl ander ‘n obsessie gehad het hulle liggame, geld, plesier, kos, drank, ens. (Kol.3:5).

 

[8] Leuenaars.  Hierdie is mense wat die waarheid verdraai het, hulle beloftes gebreek het, oordryf het, oneerlik, onbetroubaar en skelm was.  Hulle het ander bedrieg en dubbele lewens gelei.

 

Almal wat soos die bg. mense in hulle sonde wil lewe, sal vir ewig in die poel van swawel en vuur wees – dit is die tweede dood (v.8, 14:10-11, 20:10, 14-15).

 

Die eerste agt verse van Op.21 is gegee om ons aan te spoor en te waarsku.  ‘Bly weg van die hel af, en sorg dat jy eendag op die nuwe aarde sal lewe,’ is wat dit sê.  Natuurlik moet jy nie net eendag in die nuwe skepping deel nie, maar in hierdie lewe al.

 

Het jy al iets hiervan ervaar?  Ek vra nie of jy die sondaarsgebed opgesê het, op ‘n uitnodiging gereageer het, of jou hart vir die Here gegee het nie.  My vraag is of jy ‘n nuwe skepping is?  Is jy ‘n nuwe mens?  Het die Here jou lewe van binne af getransformeer?  Of is jy nog net dieselfde as in die verlede, sodat die dinge wat in v.8 gelys word deel van jou lewe is?

 

Hoekom kom jy nie met ‘n berouvolle hart van geloof na die Here toe nie?  Bely jou sonde, vra vir die Here om jou te vergewe, en drink deur die Woord en gebed uit die fontein van lewende water (v.6).

 

As jy reeds tot bekering gekom het, het ek twee dinge om vir jou te sê.  Eerstens wil ek sê dat jy soos ‘n burger van die hemel moet lewe.  Moenie só lewe dat ongelowiges niks met die Here te doen wil hê nie.  Dit geld vir jou huwelik, ouerskap, taalgebruik, hoe jy jou werk en skoolwerk doen, jou verhouding met dié wat oor jou aangestel is, jou gesindheid, jou maniere op die pad, en meer.

 

Tweedens is dit belangrik om nie te dink dat jy alreeds op die nuwe aarde is, sodat jy verwag dat jou geliefdes altyd gesond moet wees, en nie sal doodgaan nie.  Moenie vir die charismate luister wat dink dat hulle deur hulle woorde gesondheid, lewe en rykdom kan ‘spreek’ nie.  Geen mens se woorde kan die nuwe hemel en aarde skep nie; Jesus alleen kan.

 

Wag daarom vir Hom soos wat ‘n hond vir sy meester wag.  Terwyl jy wag moet jy nie passief wees soos ‘n hond wat in sy hok lê en slaap nie.  Wees aktief en gereed soos ‘n hond wat langs die heining staan en blaf.  Dien die Here, volhard, leef in gemeenskap met Hom, en deel die evangelie met ander.  Op dié manier kan jy solank ‘n voorsmakie van die nuwe hemel en aarde geniet.

 

[1] Die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet.

Wie kan gered word?

Rich young ruler 2

Gestel ek sê vir jou dat ek ‘n hektaar grond buite Johannesburg vir R10 miljoen wil verkoop.  Jy sal sê dat ek mal is.  Maar wat as jy uitvind dat daar ‘n kis vol van goud en edelstene daar begrawe is, en dat dit R100 biljoen werd is?

 

Jy sal al jou besittings verkoop en alles in jou vermoeë doen om die R10 miljoen bymekaar te maak en die grond te koop.  Jy sal sê dat die opoffering wat jy gemaak het, geen opoffering was nie.

 

So is dit ook met verlossing.  Dit is “soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.” (Mt.13:44).  In Mk.10:17-31 het ons ‘n herhaling van hierdie les.

 

Jesus en die ryk jongman (v.17-22)

‘n Vrou met wie ek die evangelie gedeel het, was baie opgewonde daaroor.  Maar toe kom die vraag:  ‘Moet ek X opgee as ek vir Jesus wil volg?’  Haar stralende gesig het soos ‘n standbeeld s’n geword toe ek vir haar sê dat sy nie met haar sonde kan aanhou as sy vir Jesus wil volg nie.  Sy was nie bereid om haar sonde te los nie, en is soos die man in v.17-22 teleurgesteld huistoe.

 

Terwyl Jesus op reis was, het ‘n man uit desperaatheid na Hom toe gehardloop en met respek voor Hom gekniel (v.17).  Die man was ryk (v.22), jonk (Mt.19:20), en ‘n leier van die volk (Lk.18:18).  En tog het hy nie die eerste dinge van redding verstaan nie; hy het gedink dat hy deur sy goeie werke gered kan word.  ‘Wat moet ek doen om die ewige lewe as erfdeel te verkry?’ het hy gevra (v.17).

 

Voordat Jesus sy vraag beantwoord het, wou Hy geweet het hoekom die man Hom ‘goeie Meester’ genoem het (v.17-18).  ‘God alleen is goed,’ het Hy in v.18 gesê (Ps.53:2, 119:68, Pd.7:20, Jk.1:17).  Jesus het nie bedoel dat Hy nie goed is nie, maar dat Hy God is.  Die vraag was of die ryk jongman dit verstaan het?

 

As hy dít verstaan het, sou hy nie na homself en sy pogings gekyk het om gered te word nie, maar na die goeie en almagtige God wat hierdie lewe vir sondaars kan en wil gee.  Dit kon egter nie gebeur het solank as wat hy op homself staatgemaak het nie.  Jesus het dus die Tien Gebooie gebruik om die hoë mure van sy selfregverdigheid af te breek (v.19).

 

‘Jy mag nie moord pleeg, egbreuk pleeg, steel, vals getuienis lewer en mense kort doen nie; jy moet jou ouers eer en jou naaste liefhê soos jouself,’ het Jesus gesê (v.19, Mt.19:18-19).  Die verbod om mense kort te doen, wys dalk dat hy ander se goed begeer het (die tiende gebod), en hulle ingedoen het om dit te kry.  Die gebod om jou naaste lief te hê som al die ander gebooie op.

 

Die man het gesê dat hy hierdie gebooie van sy kinderdae af nagekom het; hy wou geweet het waar hy nóg kortkom (v.20, Mt.19:20, Fil.3:6).  Hy het op die letter van die wet gefokus en nie op die gesindheid van die hart nie (Mt.5:21-48).

 

Jesus het dit geweet en hom jammer gekry.  Hy het met liefde na hom gekyk en gesê:  “Een ding kom jy kort—gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.” (v.21).

 

Jesus wou vir hom gewys het dat hy die eerste en tiende gebooie ootree het:  hy was geldgierig en materialisties; geld en besittings was sy afgod (Mt.6:24).  Om agter Jesus aan te kom moes hy sy afgod gelos het; hy moes alles verkoop het en die geld vir die armes gegee het (v.21, Lk.19:8).  As hy dit gedoen het, sou hy ‘n skat in die hemel gehad het (v.21, Mt.6:19-20, Lk.12:33, 1 Tm.6:18-19).

 

Jesus het nie bedoel dat die man die hemel met geld kon koop nie, maar dat sommige mense ewige dinge mis omdat hulle aan tydelike dinge vashou.  Vir iemand met so baie geld was dit te veel gevra om alles weg te gee, en dus is hy kop onderstebo huistoe (v.22).

 

Jesus en die dissipels (v.23-31)

Ek ken ‘n arm Christen wat nie ‘n kar, huis, of bed besit nie.  Hy het ‘n paar plate en DVD’s, ‘n ou rekenaar en klere.  Hy verdien tussen R3000 en R5000 p.m., en is tevrede met wat hy het.  Omdat hy so min besit, is dit vir hom niks om alles weg te gee nie (hy het dit ook al gedoen).  Vir ‘n ryk man om so iets te doen is ‘n ander storie.  En dit is presies se Jesus se punt in v.23-25.

 

Jesus het gesien hoe die man op die horison verdwyn.  Hy het toe omgekyk en vir sy dissipels gesê:  “Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan!” (v.23).  Die dissipels was verstom toe Hy dit gesê het (v.24), aangesien rykdom in die Jode se oë ‘n teken van God se guns was (bv. Job en Abraham).  Jesus het weer gesê:  “hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan!” (v.24).

 

Volgens Hom was dit makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as wat dit vir ‘n ryk mens was om gered te word (v.25). Wat beteken dit?  Sommige dink dat daar ‘n poort in Jerusalem was wat bekend gestaan het as die oog van die naald, en dat ‘n kameel op sy knieë moes kruip om daardeur te kom.  Maar hierdie teorie is nie waar nie; daar is nie ‘n enkele bewys dat daar ooit so ‘n poort was nie.  En as daar so iets was, sou niemand sy kameel daardeur laat kruip het as hy ‘n endjie verder met gemak deur ‘n ander poort kon loop nie.

 

Dit is beter om Jesus se woorde letterlik te verstaan:  vir ‘n mens om homself te red is so onmoontlik soos vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te loop (v.25).  Die dissipels was uit die veld geslaan:  ‘Wie kan dan gered word?’ het hulle gevra (v.26).  As die rykes nie iets tot hulle redding kon bydra nie, watse kans het die armes gehad?

 

Jesus het gesê dat dit vir die mens onmoontlik is, maar dat niks vir God onmoontlik is nie (v.27, Jer.32:17, 27, Lk.1:37, Ef.3:20).  As God wou kon, Hy ‘n kameel deur die oog van ‘n naald laat loop het en ‘n ryk jongman van sy sonde gered het.

 

Petrus het gewonder watse skat hy en die res van die dissipels in die hemel sou hê, aangesien hulle alles gelos het om vir Jesus te volg (v.28, 21, 1:18, 20, 2:14, Lk.14:26, Heb.10:34).  Volgens Jesus sou hulle in hierdie lewe reeds ‘n honderd keer soveel teruggekry het (v.29-30).  Alle gelowiges op aarde sou hulle familie gewees het (3:34, 1 Tm.5:1-2); hulle sou ook hulle huise en besittings met mekaar gedeel het (Hd.2:44-45, 4:34-37).  Saam met dit sou hulle ook vervolging gehad het (v.30, Jh.15:20, Hd.14:22).

 

In die toekomstige bedeling sou hulle die volle rus van die ewige lewe ingegaan het (v.30, 18).  Op aarde het die ryk man alles gehad en die dissipels niks, maar daar sou dit andersom gewees het (v.31, Lk.16:25, Ps.73).

 

Wat is die lesse wat God in hierdie hoofstuk vir ons wil leer?

 

[1] Nie almal wat opgewonde is oor Jesus en die ewige lewe het waarlik tot bekering gekom nie (v.17).  Moet dan nie oorhaastig wees om vir jou kinders te sê dat hulle gered is en gedoop moet word, net omdat hulle ‘n opgewonde gevoel in hulle harte gehad het nie.

 

[2] Jy kan niks doen om gered te word nie (v.17).  Om godsdienstige dinge en goeie werke te doen kan jou nie red nie.  Jy kan ook nie jou vrye wil gebruik om self jou hart te verander en jou sonde te vergewe nie (v.25-27).  Niemand kan homself ‘n Christen maak nie.  God moet dit doen (v.27) en Hy het ook:

 

In sy lewe en dood het Jesus die wet onderhou wat óns moes maar nie het nie, en die straf vir ons sonde op Homself geneem.  Hy het uit die dood uit opgestaan en die Gees gestuur om sy lewe in ons harte te plant.  Hy het ons oë geopen om die waarheid te glo, en aan ons die vermoeë gegee om ons sonde te los.  Aan God alleen die eer.

 

[3] Die mens in sy gevalle toestand is sleg en nie goed nie (v.20).  Solank as wat jy dink jy is goed, sal jy nie jou nood vir Jesus sien nie, en sal jy iets wil doen om in die hemel te kom.  Indien jý so is, sal dit help as jy jouself aan die Tien Gebooie meet (v.19).

 

  • Het jy al iemand doodgemaak? Dalk nie, maar was jy al so bitter dat jy gewens het iemand wil doodgaan?
  • Het jy al seksuele sonde gepleeg? Dalk nie, maar het jy dit al in jou gedagtes gedoen?  Kyk jy pornografie?
  • Steel jy? Kroek jy op jou belastingvorms?  Kopieer jy rekenaarprogramme en DVD’s wat jy  nie mag nie?
  • Is jy jaloers op iemand anders se besittings, prestasies, lewensmaat, kinders of posisie?
  • Vertel jy leuens deurdat jy blatant jok, die waarheid weerhou, oordryf, jou beloftes breek, anders is voor mense as wat jy by die huis is?
  • Eer jy jou ouers, ook wanneer hulle oud is?
  • Wys die rusie wat jy oor geld en besittings het dat ‘goeters’ vir jou belangriker is as mense wat na die beeld van God gemaak is?

 

As God se wet jou van jou sonde oortuig, moet jy nie probeer om jouself te verbeter nie.  Moet ook nie van die Here af wegdraai en stert tussen die bene wegloop nie (v.22).  Bekeer jou eerder en draai na Jesus toe om jou te vergewe.

 

[4] Enigiets wat vir jou belangriker is as Jesus is ‘n afgod.  Wat is die een ding in jou lewe wat maak dat jy jouself nie aan die Here wil toegewy nie, die een ding waarvan sê jy:  ‘As ek vir Jesus volg sal ek ___ moet prysgee, en daarvoor is ek nie gereed nie’ (v.21-22)?

 

Dalk sê jy dat daar nie so iets in jou lewe is nie, en dat jy dit maklik kan los as jy wil.  Ek glo jou nie en Jesus ook nie.  As jy dit regtig so maklik kan los, hoekom jy net jy sal en doen jy dit nooit nie?  Die rede is omdat jy dit nie kán los nie (Rm.8:7-8).  Hoekom kom jy nie liewer na Jesus toe om jou te help nie (Jh.8:36)?

 

[5] Voorspoed is gevaarliker as teëspoed (v.22).  Baie mense draai na die Here toe wanneer dit met hulle sleg gaan.  Ek het nog nooit iemand ontmoet wat tot bekering gekom het, omdat dit met hulle goed gegaan het nie.  Druk dan jou ore toe vir mense wat sê:  ‘As jy in Jesus glo sal jy ryk word en sal dit met jou goed gaan.’

 

[6] Jesus is lief vir jou, maar Hy is nie hardop vir bekerings nie:  ons het Hóm nodig en nie Hy vir ons nie.  Toe die man weggeloop het, het Jesus nie agterna gehardloop en gesê:  ‘Ek is jammer dat Ek so baie van jou vereis het’ nie.  ‘As jy net tien persent van jou inkomste gee is dit genoeg; kom net asb. terug en volg My.’  As jy vir Jesus wil volg moet dit op sý terme en voorwaardes wees en nie op joune nie; by Hom is dit alles of niks (v.21, Lk.14:33, Rm.12:1).

 

En tog sal dit jou nie benadeel as jy dít doen nie.  Inteendeel, ‘He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose.’ (Jim Elliot).[1]

 

[1] Elizabeth Elliot, Through Gates of Splendour, Hodder & Stoughton, LONDON, 1957, p.148

Die hemel se volkslied

Hallelujah-Chorus

Die wêreld weet nie wat halleluja beteken nie.  Jare gelede was daar ‘n populêre lied wat gesê het:  ‘It’s raining men, hallelujah!’  In sommige kerke dink mense nie mooi voordat hulle ‘halleluja’ of ‘amen’ sê nie.  Ek het ‘n diens bygewoon waarin mense ‘amen!’ geroep het toe die spreker sê:  ‘Ons staan agter op ‘n trok in Rusland…’

 

Wanneer ek dan in hierdie preek die woord ‘halleluja’ gebruik, bedoel ek dit nie as ‘n cliché nie, maar gebruik ek dit soos wat Johannes dit in Op.19:1-10 gebruik het.

 

Die eerste halleluja (v.1-2)

Omdat die woord ‘halleluja’ so algemeen in ons musiek voorkom, dink ons nie altyd mooi wat ons sê wanneer ons dit sing nie.  Dit was nie die geval in Op.19 nie.

 

Johannes het iets gehoor wat geklink het soos die stem van ‘n baie groot menigte in die hemel (v.1, 5:11-14, 7:9, 11:15).  ‘Halleluja!’ het hulle uitgeroep (v.1).  Ek het vroeër in die reeks gesê dat ‘halleluja’ slegs hier in die Nuwe Testament voorkom, en dat dit letterlik ‘prys Jah(we)’ beteken.

 

Waarvoor het hulle die Here geprys?

 

[1] Die mens se verlossing kom geheel en al van die Here af (v.1, Rm.8:29-30, 11:36, Ef.2:8-9).  Die Here het ook sy bruid van die prostituut se onderdrukking verlos (18:20).

 

[2] Omdat verlossing van die Here af kom, het hulle gesê dat die heerlikheid aan Hom behoort en aan niemand anders nie:  Soli Deo Gloria (v.1, Jes.48:11).

 

[3] Hulle het Hom ook geprys dat Hy die mag gehad het om te skep, te onderhou, die geskiedenis te beheer, te verlos en te oordeel (v.1).

 

Die rede hoekom hulle Hom so geprys het, is omdat Hy waaragtig en regverdig was toe Hy die groot prostituut genaamd Babilon – dit is, Jerusalem – geoordeel het (v.2, hfst.17-18).[1]  Dit was immers a.g.v. háár geestelike egbreuk dat die land [Gk. ] in ‘n moeras van immoraliteit verval het (v.2).

 

Verder was dit ook sý wat die bloed van die Here se diensknegte vergiet het, en daarom het Hy wraak geneem en haar geoordeel (v.2, 18:20, 24, 16:6, Dt.32:35, 41, 43, Lk.11:47-51, vgl. 2 Kon.9:7).

 

Die tweede halleluja (v.3)

Robert Murray McCheyne was ‘n Skotse prediker in die 1800’s.  Op 9 Nov. 1834 het hy gehoor dat iemand wat baie verkeerde lering versprei het, gesterf het.  Hy was bly oor die nuus.[2]  Toe ek dit gelees het was ek aanvanklik geskok.  Maar as ek dit met Op.19 vergelyk, besef ek dat hy reg was.

 

Die groot menigte van v.1 het weer ‘halleluja!’ geroep (v.3).  Jerusalem was soos Sodom, en daarom het haar rook soos Sodom s’n in die lug opgestyg (v.3, 11:8, 17:16, 18:8).  Die rook was ‘n voorsmakie van die ewige straf wat sy in die hel sou beleef het (v.3, 14:10-11, Jes.34:8-10, 2 Pt.2:6, Jud.7).

 

Hoe moet ons hierdie eerste drie verse toepas?  Soos die gelowiges in hierdie verse, sal jy ook die Here vir jou verlossing prys wanneer jy in die hemel is.  Jy sal geen krediet vir jouself neem, asof die bepalende besluit vir jou redding by jóú en jou vrye wil gelê het nie.  Jy sal verstaan dat Hý die Outeur en Voleinder van jou geloof is, dat Hý die goeie werk in jou begin en volbring het, en dat Hy jou gered het tot die lof van sý heerlikheid (Heb.12:2, Fil.1:6, Ef.1:6, 12, 14).

 

Jy sal Hom ook prys vir sy regverdige oordele oor OGOD en hulle ateïstiese ondersteuners, ISIS en ander Moslem-groepe, die Kommuniste, en die res van die kerk se vyande (v.2, Ps.58:11).  Jy sal bly wees dat jy nie self wraak geneem het nie, maar dat jy dit vir die regverdige God gelos het.  Jou lofprysing sal nie sadisties wees, sodat jy lekker kry oor jou vyande wat in die hel is nie.

 

Maar jy sal ook nie hartseer wees nie.  God se heilige grootheid, geregtigheid en almag sal so oorweldigend wees, dat dit alles oorskadu.  Jy sal sê dat dit goed en reg is dat Hy die kerk se vyande in die hel gewerp het.

 

Jy sal ook opnuut dankbaar wees dat Hy jou gered het, en dat jy nie saam met die goddelose in die hel is nie.  Jy sal besef dat jy die hel verdien het, en dat dit sy vrye genade is wat die verskil gemaak het.  Jy sal nie anders kan as om Hom vir ewig te prys in alles wat jy doen nie.

 

Die derde halleluja (v.4-5)

Ek het by twee geleenthede iemand in die hof gaan ondersteun.  By beide geleenthede het ‘n polisieman my aangespreek:  een keer omdat ek ‘n hoed op my kop gehad het, en die ander keer omdat ek teen die muur gestaan het.  En as die hof so ernstig was dat ek respek moes wys, hoeveel te meer is dit nie die geval in die hemel nie?

 

Die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens het voor die troon geval en die Here aanbid wat daarop gesit het.  Ek het in hfst.4 gewys dat die 24 ouderlinge ‘n rangorde van engele is, en dat die 4 lewende wesens gerubs is.[3]

 

Hulle het op hulle gesigte voor die troon geval en die Here aanbid (v.4).  Hulle ‘amen’ het die groot menigte van v.1-3 se ‘halleluja’ ge-eggo (v.4).  Dit is asof hulle gesê het:  ‘Dit ís so; ons stem saam dat die Here geprys moet word.’

 

Daar het ‘n stem van die troon af gekom:  “Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!” (v.5).  Die stem wat van die troon af gekom het was Jesus s’n.  In sy menslike natuur was die Vader ook sý God, en het Hy Hom geprys (Ps.115:1, Jh.20:17, Ef.1:3, 17, Heb.2:12).  Hy het vir God se knegte, vir die wat Hom vrees, gesê om Hom te prys (v.5, 1-10).  Dit het vir almal gegeld, klein en groot (v.5, 11:18).  Dit is tog hoekom Hy hulle gemaak het (Ps.148:2, 11-14, Jes.43:7, 21).

 

En as jy hiervoor geskep is sal jou siel nie rus, totdat jy dit doen nie.  Ek bedoel nie net dat jy ‘Jesus-liedjies’ moet sing nie, maar dat jy deur tydsame gebed en bepeinsing in ‘n verhouding met die Here moet leef.  As jy dit gereeld doen sal jy op een of ander stadium ‘n diep ervaring met die Here hê, sodat jy nie anders kan as om Hom te prys nie.

 

Eers dán sal jy besef dat ware lofprysing die hoogste piek is wat jy ooit in hierdie wêreld en in die volgende een sal bereik.  Ewe skielik sal die plesiere van hierdie wêreld vir jou leeg en hol wees.  Jy sal agterkom dat drank, vriende, jou huweliksmaat en kinders, seks, rykdom, nuwe goed, ‘n ander werk, lekker kos, populariteit en aansien, akademiese grade, jou net tydelik gelukkig kan maak.  Om ware vervulling, satisfaksie en versadiging te hê, moet jy die Here prys.  Dit kan nie anders nie, omdat Hy jou hiervoor gemaak het.

 

Die vierde halleluja (v.6-9)

Wanneer iemand in Johannes se tyd verloof geraak het, moes hy ‘n bruidsprys aan die bruid se pa betaal het.  Verlowing was meer bindend as wat dit vandag is; dit moes met ‘n amptelike skeibrief verbreek word (Mt.1:18-25).

 

As die man klaar verloof geraak het, het hy vir ‘n kort tydjie weggegaan om alles gereed te kry vir die troudag.  As dit gereed was, het hy sy bruid kom haal en haar na sy huis toe gevat.

 

Hulle het vir sewe dae fees gevier, en aan die einde daarvan beloftes uitgeruil.  Daarna het hy haar in sy huis ingebring.[4]  Dit sal help om hierdie agtergrond in gedagte te hou wanneer jy v.6-8 bestudeer.

 

Johannes het weer ‘n stem gehoor wat soos ‘n groot menigte klink, soos die gedreun van baie waters en soos die geluid van harde donderslae (v.6, 14:2).  Hulle het die Here met ‘n ‘halleluja’ geprys, omdat Hy as die Almagtige God regeer het (v.6).  Sy aardse Koninkryk het begin toe Jesus na die hemel toe opgevaar het en dit in sy Naam geregistreer is; dit sal oor die wêreld versprei en by die wederkoms vervul word (hfst.5, 11:15, 17, Ps.2:6-8, 110:1, Dn.2:35, 7:13-14, Mt.4:17, 6:10, 12:28, 28:18, Lk.10:9, 17:21).

 

Net so het Jesus se huwelik by sy eerste koms begin, en sal dit by die wederkoms vervul word (v.7, Mt.9:15).  Kom ek verduidelik dit so:

 

Omdat Israel aanhoudend in die Ou Testament egbreuk gepleeg het, het die Here haar met ‘n skeibrief weggestuur (Jer.3:1-8, Mt.19:9).  Hy het haar egter vergewe en teruggevat (Hosea).  Maar in 16:21 en 17:16 het Hy genoeg gehad, sodat Hy die prostituut gestenig en verbrand het (Dt.22:22, Lv.21:9).

 

Dit het in 70 n.C. gebeur toe Hy die tempel met sy priesters en offers verwoes het, en so die ou verbond met Israel finaal tot ‘n einde gebring het (Heb.8:13, 10:9).  Maar dit is nie asof sy huwelik misluk het nie.  God se ware bruid was nog altyd dié wat in Christus geglo het, en nie dié wat as Jode gebore is en besny is nie (Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 16, 29).

 

God het in 21:2, 9, Jes.54:5, 62:5 gesê dat die hemelse Jerusalem (die kerk volgens Gal.4:26) sy bruid is.  Deur sy dood het Hy die bruidsprys betaal, en toe sy in Hom geglo het, het Hy aan haar verloof geraak (Ef.5:22-33, 2 Kor.11:2).

 

Hy het opgevaar hemel toe om alles gereed te kry vir die troudag.  Sy het ook moeite gedoen om haarself gereed te kry, deurdat sy die blink wit trourok van haar heilige en gehoorsame dade aangetrek het (v.7-8, 3:4-5, 14:4, 1 Jh.3:3).  Deur sy kruisdood het Jesus hierdie fyn linne trourok vir haar gekoop (v.8, 7:14, Gn.3:21, Ps.132:9, Sp.31:22, Jes.61:10).

 

Die punt is dat die Here sy bruid instaatgestel het om goeie werke te doen, maar dat dit sý is wat dit moes doen (v.7-8, Ef.2:10).  God se bruid moes haarself vir die hemel voorberei, maar die Here sou gegee het wat nodig was om dit te doen (Fil.2:12-13).

 

Dit beteken nie dat sy vir die hemel moes wag om fees te vier nie.  Volgens die Bybel bestaan die fees ten minste uit drie disse, en is dit so te sê ‘n driegang maaltyd.

 

  • Wanneer iemand tot bekering kom, geniet sy in die Woord, die gemeenskap van gelowiges, die nagmaal en gebed ‘n ete met die Here (3:20, Lk.10:39, 42, Hd.2:42, 1 Kor.5:8).
  • Wanneer ‘n Christen doodgaan, gaan sy dadelik hemel toe. Daar het sy ‘n voller ervaring van die feesmaal saam met Jesus (v.7, Mt.26:29, Jh.14:2-3, Fil.1:23).
  • Wanneer Jesus weer kom, sal sy vir ewig die finale dis van die feesmaal saam met Hom geniet (Jes.25:6).

 

Is dit enige wonder dat die bruid in v.7 bly was en die Here verheerlik het?  Is die bruid se blydskap joune?  Is jy reg om by die feesmaal aan te sit?  Is die klere van jou lewe rein?  Het jy dit wit gemaak in die bleikmiddel Jesus Christus se bloed, en hou jy dit so deur ‘n heilige lewe van gehoorsaamheid?

 

Jy kan ander mense flous, omdat jy elke Sondag in die kerk sit en godsdienstige dinge doen.  Maar jy kan nie die Koning flous nie – Hy sien dwarsdeur jou.  Hy weet of jy in die kerk, huis, huwelik, skool, werkplek, en vriendekring die wit klere van ‘n rein hart en ‘n heilige lewe aan het of nie (Mt.22:11-12).  As jy dit nie aan het nie, sal jy uit die kerkbanke uit hel toe gaan (Mt.22:13).

 

Sorg daarom dat jy voortdurend die wit klere van ‘n heilige lewe aan het.  Moet egter nie dink dat jy dit self so wit gekry het nie.  Jy weet goed dat Jesus hierdie wit klere vir jou gegee het.  As jy dit nog nie het nie, moet jy vir Hom vra om jou uit die modderpoel van jou sonde te red, jou in die fontein van sy bloed te was, en vir jou die wit klere van sy geregtigheid aan te trek.

 

Só kan jy weet dat Hy jou na die troue toe genooi het, en is jy baie geseënd (v.8-9).  Soos wat jy jóú huweliksmaat en gaste gekies het, het die Here sýne gekies.  Beskou dit dan as ‘n voorreg en nie as ‘n reg nie dat Hy jou gekies het om deel van sy bruid te wees, en dat Hy jou na die troue toe genooi het (v.9, Mt.22:14, Hd.13:48).[5]

 

Dank ook die Here dat hierdie nie maar net ‘n feëverhaal is soos Sneeuwitjie of Aspoestertjie nie.  Alles wat die engel vir Johannes gesê het is God se ware woorde (v.9).

 

Die laaste halleluja (v.10)

Omtrent 15 jaar gelede het ‘n vriend van my tot bekering gekom.  Hy het vir my gesê dat ek sy lewe gered het.  Ek het mooi aan hom verduidelik dat dit die Here was en nie ek nie.

 

Iets soortgelyk het in v.10 gebeur.  Johannes was so verwonderd dat hy probeer het om die engel te aanbid.  Hy het as’t ware voor die engel se voete geval en ‘halleluja’ gesê.

 

Die engel het hom dadelik gekeer en gesê dat hy God se slaaf is net soos Johannes en die profete wat van Jesus getuig het (v.10, 5, 22:8-9, Hd.10:25-26).  As Jesus dan die middelpunt van hulle boodskap was, moes Johannes Hóm aanbid het en nie die engel nie (v.10, Lk.24:25-27, 44-45, Jh.5:46).

 

Ons moet God alleen dien:  ons mag nie tot engele bid of hulle aanbid nie, hetsy gevalle engele of heilige engele (v.10, 22:8-9, Eks.20:3, Mt.4:9-10, Kol.2:18).  Ons mag ook nie ‘n ds. vir sy preke of bediening prys, asof hy die Here is wat hierdie dinge doen nie.  Verder mag geen ds. of lidmaat mense versoek om hulle te prys nie, maar moet Jesus die middelpunt van hulle boodskap en lewe wees (v.10).

 

Ten slotte moet ek sê dat enige siening oor Openbaring wat op die fyn besonderhede van die eindtyd fokus en nie op Jesus nie, glad nie oorweeg moet word nie.  ‘n Siening wat jou bang maak en jou nie dryf om ‘halleluja!’ te sê nie, eggo nie die hemel se volkslied nie en mis die punt.

 

[1] Sien my preek, Die Lam, die Prostituut en die Antichris vir ‘n bewys dat die prostituut of Babilon ‘n skuilnaam vir Jerusalem is.

[2] Iain Murray, The Puritan Hope, p.194

[3] Sien my preek, ‘n Visioen van die hemel.  Daarin het ek gewys dat die lewende wesens ooreenstem met die gerubs in Esg.1, 10.  Ek het ook gewys dat die 24 ouderlinge op trone gesit het, en dat Paulus in Kol.1:16 van sommige hemelwesens as ‘trone’ praat.  Volgens party is die 24 ouderlinge ‘n voorstelling van al die gelowiges in die Ou- en Nuwe Testamente, en is die 4 lewende wesens simbolies van die hele skepping.  Ek huldig nie hierdie siening nie, omdat Johannes in Op.7:9, 11 tussen die 24 ouderlinge en die gelowiges in die hemel onderskei.

[4] William Hendriksen, More than Conquerors, p.215

[5] Ek dink nie Johannes probeer om tussen die bruid en die genooide gaste te onderskei nie.  Christene is die bruid en die gaste wat na die troue toe genooi is, net soos wat Jesus in 7:17 die Lam en die Herder is.

Jesus se dood en joune

Dying thief

In sy lied, Another day in Paradise, sing Phil Collins van hoe die ryk mense in ons samelewing die armes ignoreer.  Volgens hom moet ons twee keer dink en dankbaar wees vir die voorregte wat ons het:  ‘O, think twice… just another day for you and me in Paradise.’

 

Maar solank as wat daar sonde in die wêreld is, kan geen aardse rykdom dit in ‘n Paradys verander nie. Om die poorte van die Paradys oop te maak, moes Jesus aan die kruis gesterf het.  Dit is o.a. die les wat ons in Lk.23:39-43 leer.

 

Bespotting (v.39)

As jy vandag vir ‘n Jood vra wie die Beskermer van Israel is, sal hy vir jou sê dat dit die Israeli weermag is. Israel vertrou al lankal nie meer op die Here nie, maar op hulle militêre vernuf.  Dit is ook algemeen bekend dat hulle ‘n militêre Messias verwag.  Dit was ook waar van die misdadiger in v.39.

 

Volgens Mt.27:44 het beide misdadigers vir Jesus uitgelag.  “As U die Christus is, verlos Uself en ons,” het een van hulle in v.39 gesê.  Hy het nie ‘n gekruisigde Messias gesoek nie, maar een wat hom van die Romeine se onderdrukking en van die dood sou red.

 

Vandag nog is daar sulke mense: hulle wil hê dat Jesus hulle van sonde se gevolge moet red (die dood en die hel), maar nie van die sonde self nie.  En omdat Hy nie aan hulle eise voldoen nie, laster hulle Hom en sê hulle dat Hy nie die ware Here, Messias en Verlosser is nie (v.39).  Maar hulle het vergeet dat Hy gekom het om ons van ons sonde te bevry, en nie sodat ons vry kan wees om dit te doen nie.

 

Vermaning (v.40)

Sommige mense se harte word sag wanneer hulle ouer word. Maar daar is ander wat hard word.  Hulle lig hulle vuiste na die hemel toe as dit met hulle sleg gaan (Op.16:9, 11).  Selfs op hulle sterfbeddens is hulle so hard soos graniet, en wil hulle niks met die Here te doen hê nie.

 

‘n Ateïs op sy sterfbed in Glasgow het op John Paton gespoeg toe hy met hom oor Jesus gepraat het. Toe Paton vir hom wou bid het hy gesê:  ‘Pray for me to the devil… I have hated [God] in life, and I hate Him in death!’  Met hierdie woorde is hy die ewigheid in.[1]

 

Een van die misdadigers aan die kruis was so, en hieroor het die ander een hom aangespreek. Die man het tot sy sinne gekom en wou nie meer saam met sy vriend gelaster het nie.  ‘n Paar dinge kon dit veroorsaak het.

 

  • Dalk het hy gesien dat Jesus nie terug gelaster het nie (1 Pt.2:23).
  • Dalk het Jesus se gebed vir sy oortreders hom beïndruk (v.34).
  • Dalk het hy die bordjie bokant Jesus se kop oordink, en besef dat Hy regtig die Koning van die Jode is (v.38).

 

Hoe dit ookal sy, God het sy oë oopgemaak vir die waarheid. Hy wou nie meer deel gehad het aan sy eie of ander se sonde nie, en het daarom sy vriend bestraf en gesê:  “Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is?” (v.40).

 

Sy vriend het onder God se vervloeking aan ‘n kruis gehang (v.40, Dt.21:22-23). Hy was op die randjie van die ewigheid.  Elke hartklop of asemteug kon sy laaste gewees het.  Moes hy dan nie eerder die Here gevrees het (v.40), om genade gesmeek het en hom bekeer het, as om vir Jesus te laster nie?

 

Moenie dink jy kan jou bekering uitstel totdat jy op jou sterfbed lê nie. Jy weet nie eers of jy ‘n sterfbed sal hê nie; dalk gaan jy opslag dood in ‘n karongeluk.  Of dalk het jy op jou sterfbed geen begeerte om tot bekering te kom nie, omdat jy so verhard geraak het soos die rower in v.39.

 

Gebruik dan die kans wat die Here vir jou gee en bekeer jou. Moenie die sonde oortuiging wat jy vandag in jou hart voel uitstel nie, maar reageer daarop.  J.C. Ryle het gesê:  ‘Het jy ‘n neiging om te begin bid?  Stel dit dadelik in plek.  Dink jy daaraan om regtig die Here te dien?  Begin onmiddellik.  Geniet jy geestelike lig?  Sorg dat jy daarvolgens lewe.  Moenie die kanse wat jy het verspeel nie, want anders sal die dag kom wat jy dit wil gebruik, maar nie kan nie.’[2]

 

As hierdie woorde jou hart aanspreek, moet jy vandag in berouvolle gebed na Jesus toe kom. Sê vir Hom van die lelike dinge wat jy gedoen het en van die bose dinge wat in jou hart is (Hy weet buitendien).  Glo dat Hy bekwaam is, en dat sy kruisdood voldoende is om jou te red.

 

Bekering (v.41-42)

David Brainerd vertel van ‘n Indiaan wat gesê het dat God regverdig sou wees as Hy besluit het om haar in die hel te straf. Sy het gesê dat sy niks kon doen om haarself te red nie, en dat sy vir ewig hel toe sou gaan as Christus nie alles vir haar gedoen het nie.[3]

 

‘n Ander vrou het in gebroke Engels vir hom gesê: ‘Me try, me try, save myself, at last my strength be all gone (meaning her ability to save herself)… Den last, me forced let Jesus Christ alone, send me hell if He please… Did not me care where He put me, me lobe [love] Him for all.’[4]

 

Die rower aan die kruis was soos hulle en het vir sy vriend gesê dat hulle hierdie straf verdien (v.41). Hy het sy sonde erken, die skuld op homself gepak, indirek bely dat God regverdig was om hom te straf, en dat hy die verdiende beloning vir sy dade ontvang het (Rm.3:4).

 

Jesus het dieselfde straf as hulle ontvang, maar het niks verkeerd gedoen nie. Die man het dit bely; hy kon uit Jesus se optrede gesien het dat Hy die onskuldige Seun van God is (v.41, 4, 15, 22, 47, Jh.8:46, 2 Kor.5:21, Heb.4:15, 1 Pt.2:22).

 

“Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom,” het hy vir Jesus gesê (v.42). Hy het geweet dat die klag in v.38 waar is, en dat Jesus die Messiaanse Koning van die Jode is.  Hy het ook geweet dat Jesus t.s.v. sy kruisdood op die troon sou sit om as Koning te regeer.

 

Op grond van Jesus se sagmoedige liefde en die gebed in v.34, het hierdie misdadiger die vrymoedigheid gehad om te vra dat Jesus in sy Koninkryk aan hom moes dink. Dit is asof hy gesê het:  ‘Ek weet dat ek nie ‘n plek in die Koninkryk verdien nie, maar al wat ek vra is dat U aan my sal dink wanneer U daar kom.’  Hy het besef dat hy nie iets kon doen om God se guns te verdien nie, maar dat hy geheel en al afhanklik was van sy genade.

 

Om soos die rower gered te word moet die volgende vyf dinge met jou gebeur:

 

[1] Jy moet besef dat jy verlore is. Hoe kan iemand tot bekering kom as hy nie sy nood vir die Verlosser sien nie?  Iain Murray skryf:  ‘No one was converted without knowing that he needed to be.’[5]

 

[2] Jy moet erken dat jy God se straf verdien, en dat Hy regverdig is om jou te straf: jý is skuldig en Hý nie (v.41).  As jy dit nie erken nie, sal jy sy Naam laster wanneer jy in pyn op jou sterfbed lê (v.39).

 

[3] Jy moet God se oordele vrees (v.40). Sal jy op jou knieë voor die Koning val en om genade smeek as jy Hom nie vrees nie?

 

[4] Jy moet erken dat Jesus die Koning en Here is (v.42). Jy moet jouself bereid verklaar om onder sy heerskappy te lewe, en nie maar net ‘n Verlosser soek wat jou van die slegte gevolge van sonde kan red nie (v.39).

 

[5] Jy moet glo dat Hy ‘n liefdevolle Verlosser is, en dat Hy vol van genade is. Iemand wat dit nié glo nie, sal nie die vrymoedigheid hê om Hom vir vergifnis en die ewige lewe te vra nie (v.42).

 

Ek het reeds onder die vorige punt gewys dat niemand so vermetel moet wees om te dink hy gaan op sy sterfbed tot bekering kom nie. En tog leer v.40-43 ook vir ons om nie wanhopig te raak nie; Jesus is instaat om dié te red wat baie erg gesondig het, asook dié wat op hulle sterfbeddens lê.

 

Verlossing (v.43)

Oor die afgelope paar jaar het verskeie mense vir my gesê dat hulle nie meer seker is of God se kinders dadelik hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan nie. ‘Kan dit dalk wees dat ons siele saam met ons liggame in die graf sal slaap totdat Jesus weer na die aarde toe terugkeer?’ het hulle gevra.

 

Maar uit v.43 en talle ander Bybeltekste weet ons dat gelowiges se siele dadelik hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan. Kom ek wys vir jou wat ek bedoel.

 

In antwoord op die rower se versoek het Jesus gesê: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (v.43).  Dit is asof Hy gesê het:  ‘Jy hoef nie te wag tot in die toekoms nie.  Ek het vir jou redding gebid en vir jou sonde gesterf (v.34, 1 Pt.3:18); jy sal vandág al saam met My in die Paradys wees.’

 

Daar is mense wat sê dat die Paradys nie dieselfde plek is as die hemel nie. Maar volgens 2 Kor.12:2-3, Op.2:7, 22:14 is die Paradys nie ‘n ander plek as die hemel nie.  Die Griekse woord Paradys [paradeisos] verwys na ‘n tuin of park van plesier, en volgens Op.22 is dit presies wat die hemel is.  Dit is as’t ware ‘n herstelde tuin van Eden – net beter.

 

Ander sê weer dat daar nie leestekens in die Grieks is nie, en dat die vertalers die komma op die verkeerde plek gesit het. Volgens hulle het Jesus nie gesê:  ‘Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees’ nie.  Hy het eerder gesê:  ‘Voorwaar Ek sê vir jou vandag:  Jy sal saam met My in die Paradys wees.’

 

Die implikasie is dat Jesus nie vir die man gesê het wanneer hy saam met Hom in die Paradys sal wees nie, maar net dat hy eendag saam met Hom daar sal wees.  Volgens dié wat so glo, het die man se siel saam met sy liggaam in die graf geslaap (of opgehou om te bestaan).  Maar daar is ten minste vyf probleme met hierdie interpretasie.

 

[1] Jesus het nooit gesê: ‘Voorwaar Ek sê vir jou vandag’ nie.  Hy het altyd gesê:  ‘Voorwaar Ek sê vir jou,’ en dan volg wat Hy gesê het.  Hoekom sou Jesus buitendien vir die man gesê het dat Hy vandag iets vir hom sê?  Dit is mos voor die hand liggend dat Hy dit nie gister of môre vir hom wou sê nie.

 

[2] Om in Grieks ‘n woord te beklemtoon, moet jy dit voor in die sin plaas. In dié geval maak dit perfek sin dat ‘vandag’ die eerste woord in Jesus se aanhaling is.  Die man wou baie graag in Christus se Koninkryk gedeel het (v.42).  Jesus het hom verseker dat sy begeerte op dieselfde dag nog vervul sou word (v.43).  Toe die man daardie oggend opgestaan het was hy oppad hel toe, en toe hy teen die aand oorlede is was hy in die hemel!

 

[3] Toe Jesus in v.46 gesterf het, het Hy gesê: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!”  Toe Jesus sy laaste asem uitgeblaas het, het Hy sy oorwinning in die doderyk aangekondig en is Hy hemel toe (v.46, 1 Pt.3:18-20, Ef.4:8-10, Kol.3:15).[6]

 

In die Ou Testament het die hoëpriester ‘n dier se bloed in die allerheiligste ingebring (Lv.16); toe Jesus Homself vir ons geoffer het, het Hy as die hemelse Hoëpriester in die allerheiligste van die hemel ingegaan (Heb.9:24).

 

As Jesus dan in v.46 in die hemel was, maak dit sin dat Hy in v.43 vir die rower gesê het dat hy saam met Hom daar sou wees.

 

[4] Dit sou nie vir die man ‘n troos gewees het om te weet dat hy eers by die wederkoms saam met Jesus in die hemel gaan wees nie. Die troos het juis daarin gelê dat dit op dieselfde dag nog gebeur het.

 

[5] Die res van die Skrif leer vir ons dat God se kinders dadelik hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan. Vir nou gaan ek net die verwysings gee; in die volgende preek (‘Die waarheid oor lewe na die dood’) sal ek die verse hieronder uitlê, en ook die tekste verduidelik wat skynbaar die dwaallering van sieleslaap verdedig.

 

Verse wat direk of indirek bewys dat gelowiges dadelik hemel toe gaan as hulle sterf is die volgende: Gn.5:24 en Heb.11:5, 2 Kon.2:11 en Lk.9:30-31, Ps.23:4-6, 49:16, 73:24-25, Sp.14:32, Pd.12:7, Mt.22:32, Lk.16:22-26, Jh.17:24, Hd.7:55-60, 2 Kor.5:8, Fil.1:21, 23, Kol.3:4, 1 Ts.3:13, 4:14, Heb.12:22-23, Op.7:9-10, 14:13, 20:4.

 

Tog is die grootste prys nie om hemel toe te gaan nie, maar om by Jesus te wees. Dit is beter om saam met Jesus in die storm te wees, as op droë land sonder Hom; saam met Hom in die woestyn, as in die Beloofde Land sonder Hom; langs Hom aan die kruis, as in die Paradys sonder Hom (v.43).

 

Die groot troos van v.43 is nie ‘die Paradys’ nie, maar ‘saam met My’.  Jesus is die juweel van die hemel.  Dit is Hy wat die hemel hemel maak.  As jy Hom eers ontmoet het sal jy verstaan wat ek bedoel.  Niemand is soos Hy nie.  Waar het jy al ooit iemand ontmoet wat so liefdevol, volmaak, sagmoedig, goed, sterk, barmhartig, vriendelik, goedhartig, nederig, gehoorsaam, lieflik, gaaf, getrou en geduldig is soos Hy?

 

Ken jy enigiemand anders wat ‘n gruweldood deurgemaak het om sy haters van hulle sonde en God se oordeel te red? Wie ken jy wat ‘n geharde misdadiger sal vergewe en vir hom ‘n plek in die hemel sal gee, nadat hy aanvanklik gespot en gelaster het (v.34, 43, Mt.27:44)?

 

Jesus se liefde vir sondaars is soos ‘n kristalhelder fontein wat vir duisende jare aanhou vloei, soos die Vaaldam wat oorloop, soos die sonskyn wat jou omring en die hele hemel ophelder, en soos die suikersoet stroop wat ‘n koeksister deurweek. As jy jou bekeer en in Hom glo sal sy dood die giftige angel uit joune uittrek, sodat jou dood so skadeloos sal wees soos slaap (1 Kor.15:55, Hd.7:60).

 

[1] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, p.44

[2] J.C. Ryle, Holiness, p.182 (vry vertaal)

[3] Jonathan Edwards, Works: vol.2, pp.406-407

[4] Ibid, p.403

[5] Iain Murray, The Old Evangelicalism, p.22

[6] Sommige sê op grond van Jh.20:17 dat Jesus nie na sy dood hemel toe is nie. Sien my preek, Die wonderwerk wat my lewe verander het vir ‘n verduideliking van hierdie vers.  Op dieselfde trant verduidelik D.A. Carson hierdie vers breedvoerig op pp.641-646 van sy Johannes-kommentaar.

Is jy deel van die Nuwe Eksodus?

New Exodus

Wat is die Nuwe Eksodus? Dit klink soos ‘n kultus of Hollywood se verdraaiing van die geskiedenis van Moses en die Israeliete.  Toemaar, dit is nie; jy kan maar ontspan.  Dit is heeltemal Bybels.  Toe Jesus op die berg van verheerliking was, het Hy met Moses en Elia gepraat oor die uitgang wat Hy in Jerusalem sou volbring (Lk.9:31).  Die Griekse woord vir ‘uitgang’ is exodos.

 

Soos wat die Here vir Moses gebruik het om die Israeliete uit Egipte en deur die Rooi See te lei, het Jesus ons deur sy kruisdood uit die mag van sonde en die duiwel bevry, en sal Hy ons veilig deur die wêreld lei. Dit is o.a. die les wat Johannes in Op.15:1-8 vir ons leer.

 

Die plae (v.1)

Ek het in die Metodistekerk groot geword. Toe ek in gr.3 of 4 was, het die groter klas ‘n toneel oor die tien plae opgevoer.  Dit was vol van kinderhumor.  Met die negende plaag het Farao bv. na sy flits in die donker gesoek.

 

Maar ek wonder hoe dit moes wees om hierdie plae deur te maak? Enigiemand wat die gewig van God se toorn in sulke plae voel, sal verseker nie dink dat dit ‘n grap is nie.

 

En vir Johannes was die groot en wonderlike teken van die sewe engele met sewe plae ook baie ernstig (v.1). Die plae is veronderstel om ons aan Eks.7-12 te herinner, toe die Here plae gestuur om sy volk uit Egipte te verlos.  ‘Maar hoekom praat Johannes van sewe plae en nie van tien plae soos in Egipte nie?’ wonder iemand.

 

Sewe is die volmaakte getal, en dui dus op die volmaakte toorn van God. Reeds in Moses se tyd het die Here gesê dat Hy sy volk sewevoudig met die plae van Egipte sou straf, indien hulle nie opgehou het met hulle sonde nie (Lv.27:18, 21, 24, 28, Dt.28:27, 60).

 

Jerusalem het die nuwe Egipte geword (11:8), sodat die Here haar sewevoudig met sy plae gestraf het (6:1-17, 8:1-9:21, 10:3-4, 11:15-19, 15:1-16:21). Dit het Hy in 70 n.C. gedoen toe Hy die ou verbond, die tempel, die priesters en die offers finaal tot ‘n einde gebring het (v.1, Mt.24:1-3, 34, Heb.7:12, 8:13, 10:9, 19-21).

 

Vir die Jode was dit slegte nuus. Maar vir die res van die wêreld was dit goeie nuus, omdat die verwerping van Israel die redding van die wêreld beteken het (Mt.21:43, Hd.13:45-48, 18:5-6, 28:28, Rm.11:11).  Dié wat in Jesus glo is die ware volk van God, die ware Israel (Rm.2:28-29, 9:4-6, Gal.3:7, 14, 16, 29, 4:28, 6:16, Ef.2:12, 19, 3:6, Tit.2:14, 1 Pt.2:9).

 

Jy is nie deel van God se volk omdat jy ‘n sekere taal praat, in ‘n sekere land bly, aan ‘n sekere kerk behoort, en ‘n sekere velkleur het nie. Ons glo nie in die ou Afrikaner-sakralisme, waarin jy ‘n gedoopte lid van die NG-Kerk (of een van die susterskerke) moet wees en vir die Nasionele Party moet stem om hemel toe te gaan nie.

 

Om deel te wees van die Nuwe Eksodus van die ware Israel, moet jy vertrou dat Jesus die slawe-kettings van jou sonde deur sy kruisdood kan breek (1 Jh.3:8). Jy moet ook glo dat die bloed van God se Paaslam jou teen die plae van sy oordeel kan beskerm.  En as jy hierdie waarheid van Jesus en sy evangelie glo, sal jy waarlik vry wees (Jh.8:32, 34, 36).

 

Die see (v.2)

Wanneer ons ‘n boek soos Openbaring lees en bestudeer, moet ons seker maak dat ons dit reg interpreteer. Om dit reg te kry moet ons onthou dat Johannes baie beeldspraak gebruik het.

 

Ons kan dus nie sê dat daar in die toekoms regte diere met sewe koppe en tien horings op die toneel gaan verskyn nie. Dn.7 leer immers vir ons dat die diere met hulle koppe en horings ‘n simboliese uitbeelding van spesifieke konings en nasies is.

 

En tog moet ons versigtig wees dat ons nie die simboliek te ver voer nie. ‘n Man het eenkeer vir my gesê dat die 666 eintlik ‘n verwysing na die televisie is.  Hoe kan ons dan weet of ons interpretasie van Openbaring korrek is of nie?  Om seker te maak, moet ons dit met die res van die Skrif vergelyk.

 

Johannes het iets gesien soos ‘n see van glas wat met vuur gemeng is (v.2). Dit was in die hemelse heiligdom voor die troon van God (v.2, 5, 4:6, Eks.24:10).  Volgens 1 Kon.7:23-26 en 1 Kron.4:6 was daar ‘n gietyster see in die tempel.  Die priesters wat aan diens gekom het, het hulleself daarin gereinig.  Die punt van die see in v.2 is dan dat dié wat deur Jesus gereinig is, voor God se troon in sy hemelse tempel mag kom.

 

Die see was gemeng met vuur en was dus rooi (v.2). Dit is veronderstel om ons aan die Rooi See te herinner, waar die Israeliete langs die see gestaan het om die Here vir sy verlossing te prys (v.2-3, vgl. Eks.14-15).  Die vuur is simbolies van God se oordeel (v.2, Dn.7:10-11), terwyl die rooi kleur ons aan die bloedbad van 14:19-20 herinner.  God se kinders het nie in die ‘see’ verdrink nie, maar het veilig op die hemelse strand gestaan (v.2).  Hulle het die dier, sy beeld, en die nommer van sy naam oorwin (v.2, vgl. hfst.13).[1]  Wat beteken dit?

 

Hulle het nie aan die versoeking toegegee om in hulle denke en dade soos die wêreld te wees nie (13:16). Hulle het geweier om ‘n inkarnasie of beeld van die dier te wees, en is daarom ekonomies benadeel (13:14, 17).  Maar ten spyte daarvan het die dier nie daarin geslaag om hulle van die Here af weg te draai nie (v.2, 12:11, Mt.24:13).

 

Dit is dan duidelik dat die dier nie die gelowiges oorwin het nie (13:7), maar dat hulle hom oorwin het (v.2, Rm.8:36-37).  Die dood self kon nie hulle redding wegvat nie, maar het hulle dadelik hemel toe gevat.  Daar het God vir hulle harpe gegee, en het hulle Hom vir sy groot verlossing geprys (v.2-3, 5:8, 14:2).

 

Is jy seker dat jy eendag saam met hulle daar sal wees? Is jy deel van die Nuwe Eksodus wat uit die slawehuis van die wêreld verlos is (v.2)?  Of sal die wêreld jou uit die hemel uithou, omdat jy net soos hulle lewe (v.2)?  Dink en doen jy soos die meeste mense by jou skool, werk en die res van die samelewing (Ef.2:2)?

 

Luister jy na dieselfde immorele musiek as hulle? Is jy ‘okay’ met hulle TV programme en films wat sonde goedpraat, solank hulle nie die Here se Naam ydelik gebruik en sekstonele wys nie?  Verskoon jy die immorele romanne wat jy lees deur te sê dat dit darem nie visuele pornografie is nie?

 

Het jy gemaklik geraak met die gay agenda wat in die media gedryf word? Fokus jy meer op die uiterlike as op die innerlike; wy jy jouself daaraan om goed te lyk deur diëte, oefening en gesond eet, terwyl jy nie baie daaraan werk om ‘n goeie karakter en ‘n sterk verhouding met die Here te hê nie?

 

Is jy van sonop tot sononder by die werk, sodat jy, jou huweliksmaat en jou kinders in dieselfde huis bly, maar verby mekaar lewe? Werk jy langer as wat jy moet, omdat jy soos die res van jou mal kollegas vir geld en besittings lewe:  jy het meer as genoeg, maar soek nog?

 

Is jy van dié wat soveel ure by die werk deurbring, dat dit jou gesondheid affekteer? In daardie geval het werk vir jou ‘n afgod geword.  Of dalk is jy van dié wat weet dat jou lyn van werk nooit vir jou die gewenste miljoene gaan gee nie.  Om hierdie rede het jy skuld gemaak wat jy nie kan bekostig nie – jy wil dinge hê wat die Here nie vir jou gegee het nie.

 

Dalk het jy vir die strategie geval wat sê dat jy soveel as moontlik geld kan maak met so min as moontlik moeite. Of miskien is jy uitgevang, omdat die wêreld ‘n Christelike baadjie hiervoor aangetrek het:  hulle het vir jou gesê om genoeg geloof te hê en die rykdom oor jouself uit te spreek.

 

Moenie soos die wêreld wees nie (Rm.12:2). Moet jou ook nie steur aan dié wat luuks lewe, terwyl jy moet sukkel om kop bo water te hou nie (Ps.73).  Kry ‘n langtermyn visie; dink aan die hemelse rykdom wat vir jou voorlê.  Onthou dat die besittings en plesiere van hierdie wêreld agterbly wanneer jy doodgaan (Lk.12:20, 1 Tm.6:17-19, 1 Jh.2:15-17).  Hoekom lewe jy dan asof daar niks meer is as hierdie wêreld nie (Mt.6:19-20, 2 Tm.4:10)?

 

Die lied (v.3-4)

Sommige kerke glo dat ‘n mens net die Psalms en ander skrifberymings moet sing. Ons is nie een van hulle nie.  Maar ons het in ‘n ander strik getrap en tot ‘n groot mate vergeet om Kol.3:16 te gehoorsaam en die Psalms te sing.

 

En as gevolg daarvan prys ons die Here vir sy karakter, vir sy skepping, vir sy verlossing en vir sy voorsienigheid. Maar ons laat na om Hom volgens die Psalms vir sy oordele te prys.  Selfs in die hemel vergeet hulle nie om dit te doen nie (vgl. 19:1-2).

 

Die gelowiges het langs die see gestaan ‘n lied gesing (v.2-3). Dit was die lied van Moses en die lied van die Lam (v.3).  In Eks.14-15 het die Israeliete langs die Rooi See gestaan.  Moses het hulle in sang gelei om die Here te prys dat Hy hulle vyande in die Rooi See verdrink het.  In Dt.32 het Moses weer vir hulle ‘n lied geleer en gesê dat die Here hulle gaan straf, omdat hulle Hom versaak het.

 

In Op.15 het dié wat in die hemel was ook ‘n lied gesing, omdat hulle deel was van die Nuwe Eksodus. Aan die kruis het die Lam sy bruid verlos deur haar vyande in die see van sy oordeel te verdrink.  Dit was vir hierdie groot en wonderlike verlossing wat die Almagtige Here God se kinders Hom geprys het (v.3).  Op grond van sy regverdige en waaragtige karakter het Hy sy vyande geoordeel, omdat hulle sy kinders doodgemaak het (v.3, 6:9-10, 16:6-7, Dt.32:4).  Dit is duidelik dat hulle nie mooi gedink het toe hulle aan die soewereine Koning se bruid gevat het nie (v.3, Sg.2:8).

 

En moet ons nie hierdie groot God vrees en sy Naam verheerlik as Hy selfs die Jode gestraf het toe hulle sy kinders doodgemaak het nie (v.4, 14:7, Jer.10:7)?  Hy alleen is heilig, afgesonder, gans anders, verhewe bo alles en almal, uniek, een-van-‘n-soort, in ‘n klas van sy eie (v.4, 4:8, Eks.15:11, Jes.6:3).  Die nasies sal Hom aanbid, omdat Hy sy regverdige oordele geopenbaar het (v.4, 5:9, 7:9, 21:24, 26, Ps.22:28-29, 67:4-6, 68:32-33, 72:11, 86:9, Lk.13:29).  Sy oordeel oor die Jode het verlossing vir die heidene beteken (sien punt nr.1 hierbo).

 

Ek wonder hoeveel van ons bitterheid sal verdwyn as ons meer aan die Here se oordele dink? As ons aan die ongelowiges dink wat ons beskadig het, en onthou dat hulle vir ewig onder God se verskriklike en almagtige toorn in die hel gaan ly, sal ons hulle jammer kry en vir hulle bekering bid.

 

As ons aan Jesus se kruisdood dink en onthou hoe Hy ‘n grudood vir sy kinders se sondes gesterf het, sal ons nie so haastig wees om vir maande en jare die sonde van ander gelowiges teen hulle te hou nie. Ons sal nie hoogmoedig wees en dink dat ons sonde teen die Here baie kleiner is as die sonde wat ander mense teen ons gedoen het nie.  Ons sal eerder onthou dat ons baie lelike dinge gedoen het, en dat dít die rede vir Jesus kruisdood was.  Ons sal dan die mense wat teen ons gesondig het vergewe, soos wat die Here ons vergewe het (Ef.4:32).

 

Voortaan sal ons besluit om nie meer ander mense te oordeel nie. Ons sal dit vir die Here los, omdat Hy nooit te swaar of te lig oordeel nie (Rm.12:19).  Ons sal nie opstandig raak teen die Here, sodat ons in ons harte sê:

 

‘Het U nie geweet dat hierdie persoon gestraf moet word nie? Hoekom is U so geduldig en onbekwaam om regverdig te oordeel?  As ek die regter was, sou ek ‘n baie beter werk gedoen het!’ (Jk.4:11-12).

 

Soos Jesus, sal ons die sonde wat ander mense teen ons gedoen het in gebed opdra aan Hom wat regverdig oordeel (1 Pt.2:23). Ons sal ons daarby berus dat Hy sal doen wat reg is.

 

Die tabernakel (v.5-8)

Ek het eenkeer ‘n spotprent gesien van God wat op ‘n gemakstoel sit, ‘n bak ‘popcorn’ in sy hand het, en met plesier ‘n film kyk van hoe mense op die aarde swaarkry.

 

Maar dit is ‘n verdraaide beeld van God, omdat dit impliseer dat Hy die oorsaak van ons lyding is, terwyl ons eie sonde eintlik die oorsaak is.  Dit impliseer ook dat Hy nie goeie dinge vir ons gee nie.  En laastens impliseer dit dat ons goeie mense is, en dat God slegte dinge met ons laat gebeur wat ons nie verdien nie.

 

Op.15 wys egter vir ons dat God groot en heilig is, en dat Hy nie sy humeur verloor wanneer Hy sy vyande straf nie. Die straf wat dus in v.5-8 beskryf word is heeltemal regverdig, omdat dit voortspruit uit ‘n begeerte vir wat reg is.

 

Toe die Israeliete in die woestyn was, het God vir Moses gesê om ‘n tabernakel te bou. Dit was ‘n skadubeeld van die hemelse tabernakel (Heb.8:5, 9:23-24).  In v.5 het Johannes gesien hoe die tempel of allerheiligste van die tabernakel van die getuienis oopgemaak word (vgl. 11:19).  Sewe engele het uitgekom (v.6).  Hulle het die sewe plae gehad (v.6).  Soos die priesters in die Ou Testament het elke engel ‘n rein en blink linne kleed met ‘n goue band om sy bors gehad (v.6, vgl. 1:13, Eks.28:39, Lv.16:4).

 

Een van die vier lewende wesens of gerubs (4:6-8, Esg.1) het vir die sewe engele sewe goue bakke [Gk. phialē] vol van die ewige God se toorn gegee (v.7).  Die gelowiges se gebede was in hierdie bakke; in antwoord hierop moes die sewe engele God se toorn oor die kerk se vervolgers gebring het (v.7, 8:3-5, 6:9-11).

 

Soos in die Ou Testament het die tempel vol van rook geword (v.8). Dit was die rook van God se heerlikheid en krag (v.8, 14:11, Eks.19:18, Jes.6:3-4).  En soos in die Ou Testament, kon niemand in die tempel ingegaan het, terwyl die rook van God se heerlikheid dit gevul het nie (Eks.40:34-35, 1 Kon.8:10-11, Esg.10:2-4).  Wat beteken dit?  Niemand kon meer gebid het om God se toorn oor Israel te keer nie; sy besluit was finaal (Jer.7:16, 11:14, 14:11, 15:1).

 

Omdat dit so is, moet jy die geleentheid gebruik terwyl jy dit het. Moenie jouself oortuig dat die Here se geduld nie kan opraak nie.  Moenie vir jouself sê dat jy later jou sonde kan los, en dat jy dit nog net een keer wil doen nie.

 

Moenie dink dat jy van volgende maand af erns sal maak met die Here, of dat jy na die vakansie jou sondige verhouding met verslawing, ‘n getrou man of vrou, ‘n verkeerde vriend, of watse sonde ookal sal los nie.  Moenie langer uitstel om te doen wat die Here al weke, maande of jare gelede vir jou gesê het nie.

 

Die Here wil hê dat jy vandag dinge met Hom moet regmaak.  “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” (Jes.55:6).  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Kor.6:2).  “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.” (Heb.3:15).

 

As jy aanhou om jou ore vir die Here toe te druk, mag die hemelse tempel dalk vol van die rook van sy heerlikheid word, sodat Hy besluit om nie jou gebede te verhoor nie (1 Sm.28:6, Sp.1:28, Jes.1:15, Esg.8:18, Mt.25:10-12, 1 Jh.5:16). Maar as jy vandag tot Hom roep, sal Hy vir jou wys hoe groot sy genade is oor dié wat Hom met hulle hele hart soek, oor dié wat dinge met Hom wil regmaak.

 

Hy sal nie doen wat Exodus International in 2013 gedoen het nie. Exodus International was ‘n organisasie wat in 1976 begin is.  Die doel was om homoseksuele mense uit die slawerny van hulle sonde te bevry.

 

Maar in Junie 2013 het die voorsitter van die organisasie, Alan Chambers, vergifnis gevra dat hulle vir byna 40 jaar die Gay en Lesbian gemeenskap seergemaak het. Hy het verskoning aangebied dat hulle vir soveel jare verkeerd was om te sê dat homoseksualiteit sonde is.[2]

 

Die waarheid is dat Chambers en Exodus International ná 2013 duisende mense gefaal het.  Hulle het verby dié geloop wat in die tronkselle van hulle sonde sit, en vir hulle gesê:  ‘Moenie bekommerd wees as dit vir julle voel of julle in boeie is nie, want eintlik is julle vry.’

 

Die Here is nie so nie. Hy sal baie duidelik vir jou sê dat jy vasgevang is in die vangnet van jou sonde.  Maar dan sal Hy net so gou wees om vir jou te sê dat Hy aarde toe gekom het om die ystertralies van jou sonde oop te buig.  Hy het gekom sodat jy deel kan wees van die Nuwe Eksodus.

 

[1] Om meer oor die dier te verstaan, kan jy die volgende twee preke opsoek: [1] Christene, keiser Nero, en die ANC.  [2] Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666).

[2] Vir meer inligting oor homoseksualiteit kan jy die volgende preke op hierdie blog lees: [1] Sê die Bybel REGTIG homoseksualiteit is sonde? [2] ‘n Reaksie op gay huwelike in die NG-Kerk. [3] ‘n Oplossing vir homoseksualiteit.

Die wonderwerk wat my lewe verander het

empty-tomb-4

‘n Man het eenkeer sy predikant se woorde met my gedeel: ‘Jesus moet eers persoonlik aan ‘n predikant verskyn, voordat hy met gesag kan praat.’  Regtig?  Kan elke gelowige nie sê dat hy in die persoonlike ervaring van Jesus se opstanding deel nie?  Kan elke gelowige nie sê dat die opgestane Christus in sy hart lewe nie?  En is dít nie die groot wonderwerk wat my en elke ander gelowige se lewe verander het nie?  Moet Jesus persoonlik aan ons verskyn voor ons dit kan glo?

 

Mag die Here vandag Jh.19:38-20:18 gebruik, sodat jy in die opgestane Jesus kan glo nog voordat jy Hom eendag in die hemel sien (20:8, 29).

 

Jesus se begrafnis (19:38-42)

Dan Brown se boek, The Da Vinci Code, het op ‘n populêre vlak vir mense geleer dat Jesus nie eintlik gesterf het nie.  Volgens Brown het Jesus voor sy dood van die kruis afgekom, Indië toe gegaan, met Maria Magdalena getrou, kinders gehad, en doodgegaan.  Brown se ontkenning van Jesus se dood op Golgota en sy begrafnis, ontken outomaties sy liggaamlike opstanding.  Die Skrif leer egter baie duidelik dat Jesus regtig doodgegaan het.  Sy begrafnis bewys dit.

 

In die vorige verse het Jesus gesterf en het die soldate bevestig dat Hy dood is (19:30-35). Dit het al begin om aand te word (Mt.27:57), en daarom het ‘n sekere Josef van Arimathea vir Pilatus toestemming gevra om Jesus se liggaam van die kruis af te haal (19:38, Dt.21:23).  Hy wou nie gehad het dat sy liggaam in die algemene graf vir gekruisigde misdadigers begrawe moes word nie.[1]  As dít gebeur het, sou Jesus se vyande rede gehad het om sy opstanding te ontken.  Maar omdat Pilatus Josef se versoek toegestaan het, het hulle geen gronde gehad om dit te doen nie (19:38, Mk.15:45, Lk.23:53).

 

Nikodemus het vir Josef gehelp. Hy het ‘n alwyn en mirre mengsel gebring wat omtrent 33 kg geweeg het (19:39).  Mirre was ‘n deursigtige bruin of rooi-geel boomgom wat uitgedroog is.  Dit was afkomstig van ‘n sekere soort Balsam of mirre boom (Lat. commiphora myrrha) wat in Arabië gegroei het.  Dit het soet reuk gehad.[2]  Alwyn was ‘n poeier wat uit die geurige sandelhout boom (Eng. sandalwood) geneem is.[3]

 

Volgens die Joodse gebruik het Josef en Nikodemus die liggaam saam met die alwyn en mirre mengsel in skoon linne toegedraai (19:40, Mt.27:59, 2 Kron.16:14). Die mengsel sou gemaak het dat die liggaam nie dadelik sleg geruik het nie.

 

Toe hulle klaar die Here se liggaam toegedraai het, het hulle Hom in ‘n tuingraf begrawe wat naby die kruis was (19:41). Omdat dit byna 18:00 was, die tyd vir die Sabbat om te begin (Mt.27:57), was Josef haastig om vir Jesus te begrawe (19:41-42, 14, Lk.22:1, 23:54, 56).  Dus het hy Hom in ‘n nuwe graf gelê wat hy vir homself in ‘n rots uitgekap het (19:41, Mt.27:60, vgl. Jes.53:9).  Josef en Nikodemus het ‘n groot klip voor die graf se ingang gerol (Mt.27:60).

 

‘n Klomp van die vroue wat vir Jesus gevolg het, het oorkant die graf gesit en gesien waar hulle Hom begrawe het (Mt.27:61, Mk.15:47, 40, Lk.23:55). Intussen het die Joodse Raad vir Pilatus gevra om ‘n paar soldate te stuur om die graf te bewaak.  Hulle was bang dat Jesus se dissipels die liggaam sou steel, en dan vir almal sou sê Hy het opgestaan.  Pilatus het gedoen wat hulle gevra het, en het ook vir die soldate gesê om die klip te verseël (Mt.27:62-66).

 

In reaksie op hierdie verse moet ons ten minste die volgende sê: Josef en Nikodemus het nog nie die dieper betekenis van Jesus se kruisdood en begrafnis verstaan nie.  En tog het dít wat daar gebeur het, iets in hulle harte verander.

 

Voor hierdie verse was Josef reeds ‘n dissipel wat die Koninkryk van God gesoek het (19:38, Mk.15:43). Hy was ‘n ryk en gerespekteerde lid van die Joodse Raad, ‘n goeie en regverdige man wat nie met hulle besluit saamgestem het om vir Jesus te kruisig nie (Mt.27:57, Mk.16:43, Lk.23:50-51).  Sy swakpunt was egter dat hy ‘n bang en geheime dissipel van Jesus was.  Hy het gevrees dat die Jode hom vir sy assosiasie met Jesus uit die sinagoge sou skop (19:38, 7:13, 9:22, 12:42).  Maar toe Jesus gekruisig is, het hy sy vrese oorkom en openlik met Hom geassosieer (19:38).

 

Nikodemus was dieselfde. Volgens 3:2 het hierdie Fariseër a.g.v. vrees in die nag na Jesus toe gekom (19:39).  In 7:50-52 het hy voor sy kollegas vir Jesus opgestaan, maar hulle het hom gou afgeskiet (7:50-52).  Net soos Josef was Nikodemus ‘n geheime dissipel (12:42).  En tog het hy ná Jesus se dood openlik met Hom geassosieer (19:39).  Hy het nie meer in die donker weggekruip nie, maar het na die lig toe gekom (3:19-21).

 

Ons sien dan dat Jesus se kruisdood en begrafnis twee manne verander het, al het hulle nie al die detail daarvan verstaan nie. Hoeveel te meer behoort dit ons dan nie te verander nie?  Ons verstaan immers die betekenis van sy kruisdood en begrafnis, en leef ook aan die anderkant van sy opstanding.

 

Net soos wat Jesus se kruisdood hierdie manne dapper gemaak het, behoort sy opstanding ons vreesloos te maak. Ons moenie ‘FBI Christene’ of geheime agente van die Here wees, wat bang is om openlik van Hom te getuig, met Hom te assosieer, en te bely dat ons Hom ken nie (19:38-39).  Om so te vrees is onnodig, omdat die opgestane en lewende Christus in ons woon (1 Jh.4:4).

 

Jesus se opstanding (20:1-10)

Soos die Jode in die eerste eeu (Mt.28:13, 15), is daar vandag liberale teoloë wat glo dat die dissipels Jesus liggaam gesteel het. In Jesus se tyd was dit algemeen vir grafrowers om mense se liggame te steel.  ‘Hoekom sou hulle dit gedoen het?’ het my seun twee weke gelede vir my gevra.

 

In sommige antieke kulture is mense met hulle juwele en ander skatte begrawe. Grafrowers sou die toegedraaide liggaam gesteel het en op ‘n veilige plek die grafdoeke losgedraai het, in die hoop dat daar dalk kosbare juwele aan die lyk was.  Was dit dalk die geval met Jesus?  Die grafrowers sou geweet het dat sý graf aan ‘n rykman behoort het, nie waar nie?  Kom ons bekyk die teks van nader om te sien wat werklik daar gebeur het.

 

Op die dag na die Sabbat, die eerste dag van die week[4], het Maria Magdalena, Salome, Johanna, en Maria die ma van Jakobus en Joses, met hulle speserye na die graf toe gegaan (20:1-2, Mk.16:1, 15:40, 47, Lk.24:1, 10).  Dit was donker toe hulle by die huis weg is (20:1).  Terwyl hulle oppad was, het die son met skrefies-oë oor die horison geloer (Mk.16:2).

 

‘Wie gaan die groot klip vir ons wegrol?’ het hulle oppad vir mekaar gevra (Mk.16:3). Hulle het nie geweet dat ‘n engel ‘n paar oomblikke voor hulle daar aangekom het om die klip weg te rol nie (Mt.28:2).[5]  Toe hulle dus by die graf aankom, het hulle gesien dat die klip weggerol is (Mk.16:4, Lk.24:2).  Maria Magdalena het haastig omgedraai om vir Petrus en die geliefde dissipel (Johannes volgens 21:20-24) te gaan sê (20:2).  Sy het aangeneem dat grafrowers gekom het om Jesus se liggaam te steel (20:2).

 

Terwyl die ander vroue vir Maria gewag het, het hulle in die graf ingegaan en gesien dat die liggaam weg is (Lk.24:3). Terwyl hulle daar gestaan het, het hulle twee engele in helder klere gesien en na die grond toe gebuig (Lk.24:4-5).  Die engele het hulle gerusgestel en gesê dat Jesus volgens sy voorspellings uit die dood uit opgestaan het (2:19-22, Lk.9:22, 18:33, 24:6-7).  Hulle moes vir Petrus en die ander dissipels gaan sê het dat Jesus hulle in Galilea sou ontmoet (Mk.16:7, 14:28).  Hulle is toe met vrees en groot blydskap daar weg om dit te doen (Mt.28:8), maar het langs die pad bang geraak, sodat hulle besluit het om niks te sê nie (Mk.16:8).

 

Kort nadat hulle weg is het Petrus en Johannes na die graf toe gehardloop (20:3). Omdat Johannes jonger was as Petrus, het hy vooruit gehardloop en eerste by die graf aangekom (20:4).  Alhoewel hy  nie ingegaan het nie (20:4-5), het hy van buite af ingeloer en die grafklere daar gesien lê (20:5).  Toe Petrus oomblikke later daar aangekom het, het hy in die graf ingegaan en die grafklere daar sien lê, met die kopdoek wat eenkant opgevou was (20:6-7).

 

Johannes het dit ook gesien toe hy vir Petrus in die graf in gevolg het (20:8). Hy het nou wel nie die Ou Testamentiese profesieë rakende Jesus se opstanding verstaan nie (20:9, Ps.16:10-11, Jes.53:10), maar die leë graf en die opgevoude grafklere het hom daarvan oortuig dat Jesus regtig opgestaan het, en dat Hy die lewende Seun van God en die Messias was (20:8, 30-31).  Hy en Petrus het toe omgedraai en huistoe gegaan (20:10).

 

Jy kan nie gered word en hemel toe gaan as jy nie in Jesus se liggaamlike opstanding glo nie. Deesdae wil liberale teoloë ons daarvan oortuig dat die kerk mense as gelowiges moet beskou, al glo hulle nie in die liggaamlike opstanding van Jesus nie (dr. Willem Nicol het dit bv. in ‘n samespreking by die Skuilkrans NG-gemeente in Pretoria gesê).

 

Maar hoe kan iemand gered word as hy in ‘n dooie Jesus glo? Hoe kan hy geestelik uit die graf van sy sonde opgewek word, as Jesus nie uit die dood uit opgestaan het nie (Ef.2:1, 5)?  En hoe kan ons liggame eendag opgewek word, as Jesus nie opgestaan het nie (1 Kor.15)?  As dit die geval is, moet ons besef dat sonde, siekte, en die dood self nie oorwin kan word nie, maar dat ons die hulpelose slagoffers daarvan is.

 

Paulus het ‘n appeltjie te skil met Tukkies, Unisa en Stellenbosch se teoloë wat Jesus se opstanding ontken. Volgens hom is hulle ellendige ongelowiges wat nie hoop het nie, en wie se sonde nie vergewe is nie (1 Kor.15:12-19).  ‘n Mens wonder hoekom hulle enigsins daarin belangstel om vir mense die Bybel te leer?

 

Buiten vir Johannes, het die res van die dissipels en die vroue nie geglo dat Jesus opgestaan het, voor hulle Hom gesien het (v.8). Dit bevestig dat nie een van húlle sy liggaam gesteel het nie.  Die feit dat die grafklere netjies opgevou was, wys dat dit nie die werk van grafrowers was nie.  Omdat hulle gou wil wegkom, werk hulle nie netjies nie.  Eintlik sou grafrowers nie eers die linne en speserye afgehaal het nie, omdat dit iets werd was.

 

Dit is dan duidelik dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, maar dat Hy uit die dood uit opgestaan het. Nog nooit in die geskiedenis het die Joodse Raad, National Geographic, of enigiemand anders sy ontbinde liggaam navore gebring nie.

 

Ateïste, Moslems, liberale teoloë, en ander skeptiese mense sal sê dat Matteus, Markus, Lukas en Johannes se opstandingsverhale nie met mekaar ooreenstem nie, en dat dit daarom nie waar kan wees nie. Ek stem saam dat ons nie alles in die Bybel verstaan nie.  Maar om te sê dat die Bybelse rekord foutief is, is soos om te sê dat enigiets wat nie vir ons beperkte verstand sin maak nie (soos sekere wetenskaplike formules wat 50 jaar gelede nie sin gemaak het nie), foutief is.

 

Die fout lê nie by die Bybel nie, maar by ons (16:12). Buitendien het ek min of meer hierbo gewys hoe die opstandingsverhale met mekaar geharmoniseer kan word.

 

Jesus se verskyning (20:11-18)

Vandat gay en lesbian ‘regte’ ‘n stem in die westerse samelewing gekry het, het mense se opinie van die Bybel verander. Dit het al so ver gegaan, dat baie mense nie meer vir God as ‘n Vader beskou nie.  Volgens hulle is dit ‘n wrede en harde beeld, en moet ons Hom eerder as ons moeder in die hemel beskou.

 

Maar dit wys net hoe verdraaid hierdie mense se siening van manlikheid is. Dit wys dat hulle nie eintlik die gesonde beeld van Bybelse vaderskap het nie.  As hulle dít verstaan het, sou hulle nie probleem gehad het met God as ‘n Vader nie.  Hierdie les kom veral duidelik uit in dít wat Jesus in v.17 gesê het.

 

Nadat Petrus en Johannes huistoe is (20:10), het Maria buite die graf gestaan en huil (20:11). Sy het afgebuk, in die graf ingekyk, en twee engele in wit klere gesien (20:11-12).  Hulle het by die kop en voete gesit waar Jesus se liggaam gelê het (20:12, vgl. Eks.25:18).  Dit het weer bewys dat hierdie nie die werk van grafrowers was nie, maar van God.

 

Die engele het vir Maria gesê: ‘Hoekom huil jy mevrou?’ (20:13).  ‘Hulle het my Here weggevat, en ek weet nie waar hulle sy liggaam neergelê het nie,’ het sy geantwoord (20:13).  Toe sy dit klaar gesê het, het sy omgedraai en Jesus agter haar gesien staan (20:14).  A.g.v. die donker graf in die vroeë oggendure, die trane in haar oë, en haar geestelike blindheid, het sy Hom nie herken het nie (20:14, 1, Lk.24:16).

 

‘Hoekom huil jy mevrou – jy het mos nie rede nie? Vir wie soek jy?  Jy soek tog nie na ‘n dooie Messias nie, of hoe?’  Dit is hoe ons Jesus se woorde in 20:15 moet verstaan.  Maria het Hom vir die tuinier misgis (19:41) en gesê:.  ‘Mnr., het jy miskien die Here se liggaam geskuif?  As jy vir my sê waar jy dit gesit het, sal ek dit vat.’ (20:15).  Jesus het vir haar gesê:  ‘Maria’ (20:16).  Omdat sy een van Jesus se skape was, het sy dadelik die Goeie Herder se stem herken (10:3-4).

 

‘Rabboenie!’ (leermeester) het sy in Hebreeus vir Hom gesê (20:16). Sy het Jesus se voete vasgegryp; sy wou Hom nie weer verloor het nie (20:17).  Hy het vir haar gesê om nie so aan Hom vas te klou nie (20:17).  Hy het nie bedoel dat sy glad nie aan Hom mag raak nie (20:27, Mt.28:9, Lk.24:39).  Wat hét Hy dan bedoel?

 

Die rede hoekom sy nie so aan Hom moes vashou nie, was omdat Hy nog nie na die Vader toe opgevaar het nie (20:17).  Die implikasie is dat sy aan Hom vasgehou het, asof Hy dadelik na die Vader toe sou opvaar.  Hy het dus eintlik vir haar gesê:

 

‘Jy hoef nie so aan My vas te hou nie Maria. Ek gaan nie nou al na die Vader toe nie, maar sal darem nog ‘n rukkie by julle wees.  Gaan sê ook asseblief vir my broers dat Ek in die nabye toekoms gaan opvaar na die Vader toe’ (20:17, Ps.110:1, Hd.1:9, Ef.1:20-21).

 

Maria het van die graf af weggegaan en vir die dissipels gesê dat sy vir Jesus gesien het. Sy het ook Jesus se boodskap aan hulle oorgedra (20:17-18).  Terwyl sy oppad was het Jesus aan die ander vroue verskyn (Mt.28:9-10).

 

In hierdie laaste toepassing wil ek net op v.17 fokus. Jesus het gepraat van my Vader en julle Vader, my God en julle God.  Hy was die unieke Seun van God, en het dus ‘n spesiale verhouding met die Vader gehad (3:16, Gk. monogenēs).  In sy menslikheid was die Vader ook sy God (20:17, Ef.1:3, 17).

 

Maar deur Jesus se kruisdood en opstanding, het die Vader ons ook as sy kinders aangeneem (1:12-13, Rm.8:14-17, 2 Kor.6:18, Gal.4:5-6, Ef.1:5-6, Heb.12:5-11, 1 Jh.3:1, Op.21:7).  Ons is dus nie net Jesus se diensknegte en vriende nie, maar ook sy broers en susters (20:17, 15:15, Mt.12:50, Rm.8:29, Heb.2:11, 12-13).  Die grootste geskenk en voorreg wat God vir ons kan gee, is dat Hy ons God en Vader is (20:17).  Deur Jesus Christus kan ons ‘n persoonlike verhouding met Hom hê.

 

Omdat Hy nou jou Vader is, sal Hy:

 

  • Jou beloon (Mt.6:4).
  • Jou gebede beantwoord (Mt.6:6, 8-9, 7:11).
  • Vir jou sorg (Mt.6:26, 32).
  • Jou beskerm en bewaar (10:29, Sg.2:8, Mt.18:10).
  • Jou dissiplineer wanneer jy wegdwaal (Heb.12:5-11).
  • Jou liefhê en deur die Heilige Gees in jou woon (14:21, 23, Gal.4:6).
  • Genade, vrede en ander geestelike seëninge vir jou gee (Ef.1:2-3, 17, Jk.1:17).
  • Jou in sy hemelse huis inneem (14:2-3).
  • Ryk, liefdevolle en soet gemeenskap met jou hê (1 Jh.1:3).

 

Sonder die wonderwerk van Jesus se kruisdood en opstanding, kan jy nie enige van hierdie voordele geniet nie. Om hierin te deel, moet jy eers deur geloof en bekering in die wonderwerk van Jesus se kruisdood en opstanding deel. Enige ander wonderwerk waarin die Here jou van kanker genees het, of iets anders vir jou gedoen het, kan nie naastenby hiermee vergelyk word nie. Vra gerus vir dié wat al hierdie wonderwerk ervaar het: hulle sal vir jou sê dat dit hulle lewens verander het.

 

[1] Flavius Josephus, The Antiquities of the Jews, v. 44 aangehaal in D.A. Carson, The Gospel According to John, p.629

[2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder myrrh

[3] Carson, Ibid, p.630

[4] Dit is Jesus se opstanding op die eerste dag van die week wat daartoe gelei het dat gelowiges voortaan op Sondae ontmoet het (Hd.20:7, 1 Kor.16:2). In Op.1:10 het Johannes dit ‘die Here se Dag’ genoem.

[5] Die engel het nie die klip weggerol om vir Jesus uit te laat nie, maar om vir die vroue en die dissipels te wys dat die graf leeg is.

‘n Dankgebed vir die reën, vergifnis en beskerming

thanking-god-for-rain

Deur die jare het ek gesien hoe Christene in groot getalle saamtrek om vir reën te bid. Ek het al gesien hoe Christene vas dat hulle geliefdes tot bekering moet kom.  Verlede week het ek ‘n kort video gesien waarin ‘n boer vir Angus Buchan vra om die Christene bymekaar te roep om teen plaasmoorde te bid.

 

Ek kritiseer nie hierdie pogings nie. Maar ek het nog nooit gesien dat Christene ‘n massa saamtrek hou om die Here vir die reën, vir sy vergifnis en vir sy beskerming te dank nie.  Jerry Bridges het gesê:  ‘We are anxious to receive but too careless to give thanks.’[1]  In Ps.65 gee Dawid vir ons ‘n voorbeeld van wat dit beteken om die Here vir sy vergifnis, verlossing en voorsiening te dank.

 

God se vergifnis (v.1-5)

Ek onthou dat ek jare gelede ‘n klein boekie oor stiltetyd gekoop het. Êrens het die outeur gesê dat ‘n mens die Here elke dag vir jou redding en vir Jesus se kruisdood moet dank.  Ek het besef dat ek dit nie genoeg doen nie, en het van toe af probeer om daarop te let.

 

Dawid het dit ook gedoen. Nog voor hy die Here vir sy beskerming en vir reën gedank het, het hy Hom vir sy vergifnis gedank.  Dit is die sentrale boodskap van die eerste klomp verse.

 

Die Here het verdien dat sy volk Hom met stille bewondering [Heb. dûmîyâh] en lofgesange moes prys (v.1-2).  Hiervoor moes hulle na sy tent in Jerusalem of Sion toe gegaan het (v.2).  Hulle moes die geloftes wat hulle in hulle desperate nood gemaak het (‘Here, as U ons vandag help sal ons…’), aan die Here betaal het (v.2, Pd.5:3-4).  Hulle moes Hom geprys het as die Een wat hulle gebede verhoor het (v.2-3, Lk.11:9-10).  Mense uit alle nasies moes Hom hiervoor geprys het (v.3, 67:4-6, 68:32-33, 86:9, Jes.2:2-3, 56:7, vgl. Mt.21:13).

 

Israel het veral rede gehad om die Here te prys, omdat Hy haar sonde vergewe het (v.4). Toe dit vir Dawid gevoel het of sy sonde te sterk is vir hom (v.4, 38:5), het die Here ingegryp en versoening bewerk (v.4, 79:9).  Dit het Hy in die toekoms gedoen toe Hy ook vir Dawid se sonde aan die kruis gesterf het.  Die Ou Testamentiese offers het dit geïllustreer.

 

Dawid het ook die Here geprys omdat Hy vir Israel uitgekies het om naby Hom te wees (v.5, 33:12). Hulle moes nie gedink het hulle verdien dit nie (Dt.7:7-8), maar moes dit as ‘n voorreg en ‘n seën beskou het dat hulle in die Here se voorhowe met Hom gemeenskap kon hê (v.5, 23:6, 27:4, 84:5).  Hier sou sy goedheid en heiligheid hulle versadig het (v.5).

 

Wat leer ons uit v.1-5 van hierdie Psalm? Ons moet die Here vir ons verlossing prys, en Hom dank dat Hy ons uitverkies het (v.1-5).  Is dit iets waaraan jy gereeld dink, of is jy al so gewoond daaraan, dat jy dit vanselfsprekend neem?  Dalk moet jy jouself weer aan die diepte van jou sondige verlede herinner, sodat jy die Here se vergifnis op Golgota opnuut kan waardeer (v.4, 103:10, 12, 130:3-4).

 

Dalk moet jy ook daaraan dink dat God jou nie gered het omdat jy Hom gekies het nie, maar omdat Hy jou gekies het (v.5, Jh.1:12-13, 6:44, 65, 15:16, Rm.8:29-30, 9:11-18).  Hoekom het die Here vir Israel gekies en nie die ander nasies nie?  En hoekom het Hy besluit om jóú te red:  wat maak jóú so spesiaal dat Hy jou gekies het om naby Hom te wees (v.5, Jer.30:21, 1 Kor.1:26-31, 4:7, Ef.2:12-13)?  Dit is pure genade.  As jy dít onthou, sal jy Hom meer wil prys (v.5, 2, Ef.1:4-6).

 

Maar jy moenie net op jou eie die Here vir jou verlossing prys nie; jy moet dit ook saam met ander gelowiges doen (v.1-2). Dit moet vir jou lekker wees om saam met die gemeente te vergader om die Here se goedheid te geniet, en om Hom vir sy heiligheid te aanbid (v.5, Ps.122:1, Heb.10:24-25).

 

Ek dink nie ons besef watse groot voorreg ons het om deur Christus in God se troonkamer in te kom nie (Heb.10:19-22). God se kinders in die Ou Testament sou hulle voortande hiervoor gegee het, maar ons neem dit ligtelik op.  Ons bly maklik van die erediens af weg, omdat tant Sannie van Kakamas vir die naweek by ons kuier, of omdat die aanddiens met ons gunsteling TV-program inmeng.  Gelowiges wat vir geen goeie rede van die Here se huis af wegbly nie (v.5, 1 Kor.3:16), sal nie die vervulling van sy goedheid beleef soos dié wat getrou kom nie (v.5).

 

God se verlossing (v.6-9)

Jannie is 5 jaar oud. Sy pa is sy held.  Hy kan ‘n rugby bal oor die huis se dak skop, en het een keer ‘n kwaai hond met ‘n stok weggejaag.  Hy kan ‘n boom afkap, ‘n sak hondekos met een hand dra en vleis braai.  Hy het eenkeer dwarsdeur die nag Kaap toe gery, terwyl Jannie en sy sussie agter in die kar gelê en slaap het (Jannie weet nie dat sy ma ook gehelp bestuur het nie!).

 

Eendag toe boelie ‘n ander kind vir Jannie by die kleuterskool. Hy was baie bang en het nie geweet of iemand hom kan help nie.  Sy vrese het hom verlam.  Hy het skoon vergeet hoe sy pa ‘n kwaai hond ‘gewen’ het.  As hy dit maar net onthou het, kon hy vir sy pa gevra het om die boelie (en sy pa) uit te sorteer.

 

Net so was dit ook met Israel: as hulle die Here se almag in die skepping onthou het, sou hulle geweet het dat Hy hulle ook teen hulle vyande kan beskerm.  Dit is die boodskap in v.6-9.

 

Terwyl Israel in Egipte was, het hulle in hulle nood tot die Here geroep (v.3, Eks.2:23). Volgens sy regverdige karakter het Hy hulle met vreeslike dade gered, om só die God van hulle verlossing te word (v.6, 106:22, Dt.10:21, 2 Sm.7:23).  Deur sy kruisdood in die toekoms sou Hy ook die Hoop en Verlosser van die nasies aan die eindes van die aarde geword het, die nasies oorkant die see (v.6, 3, 22:28).

 

In die begin het Hy sy almag soos ‘n gordel om sy middel vasgemaak, en het Hy die reusagtige berge gevestig (v.7, 93:1). Omdat daar dan geen einde aan sy mag is nie (v.7, Jer.32:17, 26-17, Lk.1:37, 18:27, Ef.3:20), was dit glad nie vir Hom moeite om Israel van haar vyande te red nie (v.6).  Net soos wat Hy die see stilgemaak het (v.8a, 89:10, 107:29, Mt.8:26), kon Hy Israel se vyande stilgemaak het (v.8b, Jes.17:12-13).

 

Die nasies aan die eindes van die aarde het die Here se groot tekens gevrees en hulle daaroor verwonder (v.9, Eks.15:14-16, Jos.2:10-11). Hy is die God wat elke dag blydskap bring wanneer Hy die son laat opkom en wanneer Hy die maan en die sterre laat uitkom (v.9).  As Hy dan die skepping beheer (v.9), is dit glad nie vir Hom moeilik om sy volk te beskerm nie (v.6).

 

Dit beteken nie dat geen gelowige ooit die slagoffer van ‘n plaasmoord of ‘n verkragting sal wees nie. Die Here het immers gesê dat die wêreld ons gaan verdruk (Jh.16:33, Hd.14:22, 2 Tm.3:12).  En tog weet ons dat die Here eendag teen sy kinders se vyande gaan optree.  Hy sal die duiwel, die Moslems, die Kommuniste en elke ander vyand van sy hemelse Bruid oordeel (v.8b).  Al raas hulle nou soos die golwe van see, sal hulle nooit die Here se kerk oorweldig nie (v.8, Mt.16:18).

 

Ons moet die Here dank dat geen moord of enigiets anders ons van sy liefde kan skei nie (Rm.8:38-39). Dit kan ons nie uit sy hand uit ruk of ons siele beskadig nie, en daarom hoef ons nie in vrees te lewe vir dié wat die liggaam kan doodmaak, maar daarna niks kan doen nie (Mt.10:28, Jh.10:28-29).

 

Die Here kan en sal selfs die slegte omstandighede tot ons voordeel uitwerk, en dit gebruik om ons meer soos Jesus te maak (Rm.8:28-29). Hy sal ons deur die wêreld se landmyne van sonde lei, sodat ons veilig aan die anderkant uitkom (2 Tm.4:18).

 

Ek probeer nie sê dat jy net vir geestelike beskerming moet bid, en dat die beskerming van jou liggaam onbelangrik is nie. Dis reg dat jy teen plaasmoorde en ander misdade in ons land bid.

 

Maar ons moenie van die beskerming van jou siel vergeet nie. Dit help nie dat jou liggaam veilig is omdat jy nou in Australië bly, terwyl jou siel in gevaar is nie (Mt.16:26).  Moet dan nie nalaat om Mt.6:13 te bid (‘Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose’), en dan die Here te dank wanneer Hy jou gebede beantwoord nie.

 

God se voorsiening (v.10-14)

In sy goedhartige liefde het die Here ‘n manier om meer te gee as wat ons nodig het. As Hy klaar vir mense kos gegee het, is daar 12 mandjies vol van vis en brood oor wat hulle nie klaar geëet het nie (Mt.15:20).  Ook as Hy vir ons reën gee, loop die damme oor.

 

Ons weet dat Hy soms ‘n goeie rede het vir waarom Hy die reën terughou. Maar sy normale patroon is om met ‘n oop hand vir die skepping te gee:  “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.” (Ps.145:16).  Dit is ook hoe Dawid dit in v.10-14 gesien het.

 

Dawid het die Here geprys, omdat Hy die aarde met ‘n oorvloed van reën besoek het (v.10, 2). Hy het die dor en arm aarde ryk gemaak (v.10).  Die rivier of kanaal van God wat deur Jerusalem gevloei het (Ps.46:5, Jes.7:3), het vol geword sodat daar genoeg drinkwater was (v.10).  Daar was ook genoeg water vir die koringlande buite die stad (v.10).  Op hierdie manier het die Here vir sy volk brood voorsien (v.10).

 

Met die oorvloedige stortreën het Hy die geploegde lande goed nat gemaak, sodat die harde klonte en riwwe sag geword het (v.11). Hy het die grond met water deurweek en dit vrugbaar gemaak, sodat dit ‘n geseënde oes opgelewer het (v.11).  So het Hy die jaar met sy oorvloed gekroon (v.12).

 

In v.12 het Dawid gesê dat die Here se spore met vettigheid drup. Hy het bedoel dat daar ‘n oorvloed van kos en water is wanneer die Here met sy reënwolke by ‘n plek verbygaan.  Vertalings soos die ESV sê dat die plaaswaens se spore oorloop.  Die waens is so oorlaai dat die koring in die tweespoor paadjies val, terwyl hulle dit na die skure toe aanry.

 

Soos in Botswana se Okavango Delta, het die reën alles verander. Dit wat altyd ‘n woestyn was, was nou weiding (v.13, Job 38:26-27).  Oral het daar waterpoele gelê (v.13).  Soos Namakwaland in die blommeseisoen, het Israel se heuwels haar vrolike blommerok aangetrek, haar Sondag beste om die Here te verheerlik (v.13).

 

Die groen weivelde het ‘n vuil wit woltrui met bruin en swart knope gedra: oral in die veld het skape en bokke die sappige en voedsame gras geniet wat die Here voorsien het (v.14).  En so het die Here deur die skape en die bokke vir sy volk klere, vleis, melk en kaas voorsien.  Hy het ook die valleie met goudkleurige koring oordek (v.14).  Saam met die res van die aarde het die goue koringare in die wind gedans en die Here met lofgesange geprys (v.14).

 

Om op hierdie manier dankbaar te wees is ‘n kenmerk van ‘n ware gelowige (Ps.50:23, Lk.17:11-19, Rm.12:1, Fil.2:14). Kan dit anders wees as die Here jou met soveel oorvloed geseën het?  Hy het jou geseën met alle geestelike seëninge in die hemel in Christus (Ef.1:3).  Hy het jou gekies, gered, vergewe, aangeneem en vir jou ‘n erfdeel in die hemel gegee (v.2-6, Ef.1:4-14).

 

Sy genade is so oorvloedig dat dit al jou sonde bedek (Ps.51:3, Jes.55:7, Rm.5:17, 20). Hy het sy oorvloedige liefde en lewe deur die Heilige Gees in jou hart uitgestort (Jh.10:10, Rm.5:5).  Hy antwoord jou ver bo wat jy kan bid of dink (Ef.3:20).  Die troos wat Hy gee wanneer jy swaarkry is oorvloedig (2 Kor.1:5).  Die reën en kos wat Hy gee is meer as ‘n dag se voorraad, meer as wat jy kan hanteer of nodig het (v.10-14).

 

Die voorregte van die liggaam van Christus, mediese sorg, godsdiensvryheid, die Bybel in ons eie taal, geleenthede om geestelik te groei deur goeie boeke, preke, DVD’s, die internet, konferensies en meer, getuig van die Here se goedheid. Verstaan jy nou hoekom jy nie moet nalaat om die Here te dank wanneer jy in jou stiltetyd bid nie (Fil.4:6, Kol.4:2, 1 Ts.5:17-18)?

 

Mense wat ondankbaar is en alewig kla, dink te veel van hulleself. Hulle dink dat hulle beter verdien, en kla dan as hulle dit nie kry nie.  As jy egter besef dat jy die hel verdien, sal jy dankie sê vir enigiets meer wat die Here jou gee.

 

Om in konstante ondankbaarheid te lewe is ‘n kenmerk van ongelowiges (Rm.1:21). Net soos ons, weet hulle hoe om vir reën en ander dinge te bid wanneer die krisis tref.  Maar wanneer die Here vir hulle deurkom, gee hulle nie vir Hóm die krediet nie.  Hulle prys hulleself en hulle eie vermoeëns, die chirurg wat hulle geopereer het, of die wonderlike tegnologie wat geniale slim mense uitgedink het.  En selfs dít doen hulle nie vir lank voordat hulle weer oor iets anders kla nie.

 

Hulle is soos die minister van water en sanitasie (Nomvula Mokonyane) wat op 7 Nov.2016 vir reën gebid het. Toe die Here op 10 Nov.2016 reën gegee het, toe sê sy:  ‘We didn’t pray for floods, we prayed for rain.  It feels like we were robbed.’

 

So is die wêreld vir jou: wanneer dit droog is kla hulle, en wanneer dit reën kla hulle.  Ek onthou hoe dit heerlik gereën het ná Januarie 2016 se hittegolf.  ‘n Omroeper van ‘n populêre radiostasie in Johannesburg het gekla, omdat ons vir ‘n week nie die son gesien het nie.

 

Moenie soos die wêreld wees nie, maar dank die Here in alle omstandighede – of dit nou te veel gereën het of te min (Ef.5:20, Job 1:21). Laat die Here se antwoord op jou gebede jou aanspoor om Hom te dank, maar ook om te bid dat die Wes-Kaap goeie reën sal kry.

 

Moet asseblief nie dink dat sommige plekke in ons land nog droog is, omdat hulle groter sondaars is as ons nie. “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.” (Lk.13:3, 5).

 

As ons ons nié bekeer en glo dat Jesus Christus die enigste Verlosser van sondaars is nie, sal die lieflike reën wat ons oor die afgelope vier maande geniet het, ‘n getuie teen ons wees op die oordeelsdag. Die reën sal jou daaraan herinner “dat dit [God] is wat die goeie dinge gee:  Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” (Hd.14:17, NAV).

 

Ek wil jou aanspoor om die Here vir sy vergifnis, verlossing en voorsiening te vra. Moet asseblief nie terughou of skaam wees nie; die Here gee graag.  Maar wanneer Hy hierdie dinge gegee het, moet ons nie nalaat om Hom daarvoor te dank nie.

 

[1] The Practice of Godliness, p.101