‘n Man na God se hart

Man after God's own heart

Toe ek op hoërskool was moes jy rugby speel en ‘n meisie hê om ‘n man te wees.  As jy in die koor gesing het of tik geneem het, was jy ‘n sissie (die koor gedeelte het verander toe ek in gr. 10 kom).  As jy ‘n student op universiteit is moet jy immoreel wees en drink om ‘n man te wees.  As jy in die sekulêre sektor werk is die kar wat jy ry, op watse landgoed [Eng. estate] jy bly, hoeveel jy drink en of jy ‘n vakansie huis het, deel van wat dit beteken om ‘n man te wees.

 

Volgens die Bybel gaan manlikheid oor iemand se karakter, en nie oor hoe sterk, sportief, aantreklik, onemosioneel of macho jy is nie.  Dawid is ‘n goeie voorbeeld van wat dit beteken om ‘n man te wees.  Volgens 1Sam. 13:14 en Hand. 13:22 was hy ‘n man na God se hart.  Sy naam kom meer as 1100 keer in die Bybel voor (meer as Moses en Abraham s’n saam).  Volgens Rom. 15:4 en 1Kor. 10:11 is dit opgeteken dat ons daaruit kan leer.

 

Wat is positiewe en negatiewe karaktertrekke uit Dawid se lewe, en wat moet ons daaruit leer?

 

Wees toegewyd

Het jy al die plakker gesien wat sê:  ‘Real men follow Jesus’?  Dis waar.  Dawid, die man na God se hart, het die Here gevolg en ‘n in noue verhouding met Hom geleef.  Sy toewyding het soos volg gelyk:

 

[1] Hy het in God geglo; hy is een van die Bybel se geloofshelde (Heb. 11:32).  Sy geloof was nie bloot ‘n intellektuele belydenis van God se bestaan nie, maar ‘n persoonlike verhouding met Hom.  Om in die volle sin van die woord man te wees, moet jy ‘n persoonlike verhouding met Jesus hê.  Hy is immers die volmaakte Man na wie se beeld ons gevorm moet word (Rom. 8:29, 2Kor. 3:18).  Hoe meet jy op?  Staan jy in ‘n lewende en persoonlike verhouding met Hom; is jy ‘n regte man?

 

[2] Hy was ‘n man van gebed.  Volgens Ps. 5:3-4 het hy elke oggend met die Here gepraat.  In tye van beproewing het hy drie keer per dag gebid (Ps. 55:18).  Die meeste van sy Psalms is gebede en sê vir ons hoe sy gebede geklink het.

 

  • Hy was dors vir God en het sy gedagtes met Hom gevul, totdat hy nie anders kon as om Hom te prys nie (Ps. 63:2-7). Lofprysing was deel van sy lewe (bv. Ps. 139, 145).  Uit 150 Psalms het hy 75 geskryf (vgl. die Psalms se opskrifte, Hand. 4:25 en Heb. 4:7).
  • Sonde belydenis was deel van sy gebede. Hy het egbreuk en moord gepleeg (2Sam. 11), en in sy militêre sukses geroem (2Sam. 24).  Maar hy het ook berou gehad, hom bekeer, die Here om vergifnis gesmeek, en die pynlike gevolge van sy sonde gedra (2Sam. 12, 24, Ps. 32, 38, 51).
  • Hy het die Here in sy gebede gedank (2Sam. 22, Ps. 23, 103). Hy was nie soos baie Suid-Afrikaners wat vir reën bid, maar nalaat om dankie te sê wanneer die Here hulle gebede beantwoord nie.
  • Hy het sy behoeftes voor die Here gebring en erken dat hy Hom nodig het (Ps. 141, 143). Hy was nie soos die wêreld wat dink dat dit ‘n teken van swakheid is om te erken jy het hulp nodig nie.  Voordat Dawid ‘n skuif gemaak het, het hy God se hulp gevra (1Sam. 23:2-4, 9-12, 30:7-8, 2Sam. 2:1, 5:19, 23-25).

 

Dawid was soos Jesus, Paulus en Martin Holdt wat baie gebid het.  Hy was nie soos baie mans wat sê dat hulle Christene is, maar nie eers 2 minute per dag bid nie.  Ek wil jou uitdaag om ‘n regte man te wees en meer te bid.  Vra die Here om jou met selfdissipline te help.  Jare gelede het iemand my met konstantheid gehelp.  ‘Selfs as jy verslaap het is dit beter om vir ‘n kort rukkie te bid as wat jy glad nie bid nie,’ is wat hy gesê het.  ‘En as jy konstantheid geleer het, kan jy aan die tyd werk.’

 

Bid soos Dawid.  Begin met lofprysing:  prys die Here vir wie Hy is.  Bely ook jou sonde.  Moenie dat dit soos vuil skottelgoed ophoop nie, maar bely dit elke dag (Matt. 6:12).  Sê dankie dat die Here jou gered het, asook vir wat Hy in jou lewe doen (sy daaglikse sorg, beskerming, genade, ens.).  Lê ook jou en ander mense se behoeftes aan sy voete neer.  Erken dat jy Hom nodig het, en dat jy nie sonder Hom kan lewe nie (Joh. 15:5, Hand. 17:25).

 

[3] Hy het die Woord liefgehad.  Ps. 19:8-15 wys dat dit sy lewe was.  Hy het dit nie net geken nie, maar gedoen (1 Kon. 3:14, Hand. 13:22).  Met sy hele hart was hy getrou, regverdig, opreg, en ‘n man van integriteit  (2Sam. 8:15, 1Kon. 3:6).  Sý lewe was die standaard waarvolgens God ander konings se gehoorsaamheid gemeet het (1Kon. 9:4, 11:4, 6, 34, 14:8, 15:3, 5, 11, 2Kon. 14:3, 16:2, 18:3, 22:2, 2Kron. 17:3).

 

Om soos Dawid te lewe moet jy daarna streef om die Skrif beter te ken en te doen.  Wees uiterlik netjies, maar werk ook daaraan om innerlik ‘n man van karakter te wees.  God kyk immers meer na die hart as na jou uiterlike voorkoms (1Sam. 16:7, 12, 18).  Koop vir jou ‘n ESV Study Bible, kry ‘n Bybellees program op die internet, en laai tonne van Stuart Olyott, John Piper, John MacArthur, R.C. Sproul, Voddie Baucham, D.A. Carson, Conrad Mbewe se preke af.  Maak ook seker dat jy goeie boeke lees:  Martyn-Lloyd Jones, Charles Spurgeon, Iain Murray, Randy Alcorn, Jerry Bridges, Paul Tripp en meer.

 

[4] Hy het God se huis en sy mense liefgehad.  Hy wou in die tempel wees om die Here saam met ander gelowiges te prys (Ps. 16:3, 23:6, 26:8, 27:4, 122:1).  A.g.v. sy groot liefde vir God se huis, het hy mildelik daartoe bygedra (1Kron. 22:14, 29:2, 4).

 

Is jy soos Dawid?  Is Christus en sy gemeente jou lewe?  Is jy gereeld by die gemeentelike samekomste, omdat jy die Here saam met jou broers en susters wil aanbid (Heb. 10:24-25)?  Gee jy vir God se werk en vir die uitbreiding van sy Koninkryk in Tembisa, Peru, Zimbabwe en op ander plekke?

 

Wees dapper

Wat is die verbod wat die meeste in die Bybel voorkom?  Moenie bang wees nie.  Wees dapper.  Om dapper te wees beteken nie dat daar geen vrese in jou lewe is nie, maar dat jy hulle oorkom.  Jy is nie so dom dat jy die gevaar uitsoek nie, maar wanneer dit oor jou pad kom vertrou jy die Here om jou te help.  Dit is wat dapperheid beteken.

 

Dawid was so:  “…’n dapper held en ‘n krysman… en die Here is met hom.” (1Sam. 16:18).  Toe almal Goliat gevrees het, het Dawid sy slingervel gevat en die gewapende reus doodgemaak (1Sam. 17:48-51).  Hy was dapper, omdat hy geweet het die Here is met hom (1Sam. 18:14, 28, 2Sam. 5:10, 8:6, 14).

 

As jy gered is en jou sonde vergewe is, is die Here met jou (Matt. 1:23, 28:20, Heb. 13:5).  Dus hoef jy nie bang te wees nie.  Met God se krag en die vlymskerp swaard van sy Woord, kan jy die sterkste vyande in jou lewe doodmaak:  onsekerheid oor jou en jou gesin se toekoms, vrees vir die dood, Satan se versoekings om onrein te wees, ongedissiplineerde gedagtes, sondige gewoontes soos dronkenskap en pornografie, ‘n los tong, finansiële stres, passiewe geestelike leierskap in jou huis, vrees vir verwerping, ens.

 

Dalk het die duiwel, jou eie sonde en jou omstandighede jou teen die grond geslaan.  Moenie bly lê, of in ‘n hoek sit en jouself bejammer nie.  Staan op.  Vra die Here om jou te help.  Tel jou swaard op en stry die goeie stryd.

 

  • “die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (Gen. 4:7).
  • “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” (Rom. 12:11).
  • “Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.” (1Kor. 9:26-27).
  • “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. Laat alles by julle in liefde geskied.” (1Kor. 16:13-14).
  • “oefen jou in die godsaligheid” (1Tim. 4:7).
  • “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe…” (1Tim. 6:11-12).
  • “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2Tim. 1:7).
  • “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2Tim. 4:7).
  • “onthou [julle] van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” (1Pet. 2:11).

 

Moenie soos ‘n bangbroek van jou moeilike omstandighede af wegvlug, of vir beter dae wag nie.  Wees ‘n man.  Staan op.  Ruk jouself reg.  Skud die stof van jou klere af.  Moenie bang wees vir ‘n bietjie seerkry nie.  As mans deur die geskiedenis vir hulle vryheid geveg het, kan jy sekerlik jou swaard optel en vir jou Koning, sy eer en sy Koninkryk veg.  As jy dapper is sal jy ander beïnvloed om in jou voetspore te volg (2Sam. 21:22, 23:8-39).

 

Wees sagmoedig

Dit is maklik om ander mense te beheer, maar moeilik om jouself te beheer.  ‘n Sagmoedige man is iemand wat geleer het om homself te beheer.  Sy sagmoedigheid is nie ‘n teken van swakheid nie, maar van sterkte.  Hy is soos ‘n olifant wat dik stompe met sy slurp kan optel, maar dit gebruik om ‘n fyn blaartjie te pluk; hy is soos ‘n gimnas wat sy krag beheer om stadig in ‘n Maltese kruis in te sak.

 

Jesus en Moses was so (Matt. 11:29, 12:20, 2Kor. 10:1, Num. 12:3).  Dawid ook.  Toe Simeï hom vloek en Saul hom vervolg, het hy hulle nie teruggekry nie.  Hy het dit in die Here se hande gelos om wraak te neem (1Sam. 24, 26, 2Sam. 16, Rom. 12:19).[1]

 

Ons moet so wees.  Wees sagmoedig met jou vrou en kinders (1Pet. 3:7, Ef. 5:25, 29, Kol. 3:19).  Moenie so streng wees dat jou vrou bang is om haar opinie te gee, of jou kinders vrees jy sal uitvind hulle het ‘n toets gedruip nie.  Dalk is jy té streng en moet jy leer om meer sagmoedig te wees.  As jou vrou of kinders gesondig het, moet jy hulle nie verkleineer nie maar met ‘n sagmoedige gesindheid reghelp, en onthou dat jy self ook God se genade nodig het (Gal. 6:1-2).

 

Wees nederig

In een van my vrou se beradingklasse het die dosent gesê:  ‘Mans, niks is belangriker in jou huwelik as nederigheid nie.’  Ons sien dit miskien nie in Dawid se huwelik nie, maar in sy lewe is dit duidelik sigbaar.  In 1Sam. 25:32, 34-35 het hy bv. ‘n vrou se raad gevolg en nie gedink hy weet alles nie.  Sommige mans dink dat dit benede hulle is om so iets te doen.  Maar die man wat homself verneder om sy vrou se insette te vra, is beter af as die man wat dink dat hy haar nie nodig het nie (Gen. 2:18).

 

Dawid was ook nederig genoeg om sy vyande lief te hê en te vergewe.  Hy het vir Simeï vergewe (2Sam. 16, 19).  Hy het getreur toe Saul en Absalom – sy vyande – dood is (2Sam. 1, 18).  Beide Abner en Isboset was aan Saul se kant.  Maar toe hulle dood is, was Dawid hartseer en het hy hulle moordenaars bestraf (2Sam. 3-4).

 

Sal Dawid sy vyande liefhê en vergewe, en kan jy nie eers met jou vrou oor die weg kom nie?  Dit wys iets van die hoogmoed wat daar nog in jou hart is.  Jy dink te veel van jouself.  As jy nederig was sou dit jou nie so gepla het dat mense nie volgens jóú pype dans nie.  Maar nou raak jy kwaad en baklei jy, omdat jy vir jouself te belangrik is (Jak. 4:1-2).  Jy kan dit nie glo dat jou vrou so arrogant is om jóú wil te kruis nie.  ‘Hoekom wil sy altyd dinge op háár manier gedoen hê?’ wonder jy.  Jy kom nie eers agter dat jy kwaad is, omdat sy nie dinge op jóú manier wil doen nie.

 

Dit sal help as jy jouself weer aan God se heiligheid meet, sodat jy kan sien jy is glad nie so belangrik soos wat jy dink nie.  ‘n Nederige man sal nie dink dat hy te goed is om ‘n ‘vrou se werk’ te doen nie.  Hy sal sy vrou help en die kind se doek ruil, skottelgoed was, die huis opruim, die kinders oppas, ‘n siek kind dokter, kruideniers koop, ens.  Om ‘n leier te wees moet jy nederig wees en soos Jesus dien (Matt. 20:25-28).

 

Iemand wat regtig nederig is sal dit nie agterkom nie, maar erken dat hy baie hoogmoedig is.  Omdat hy dit besef, sal hy soos Dawid wees toe hy in sy militêre sukses geroem het:  hy het hom bekeer en vir die Here gevra om hom te vergewe (2Sam. 24).

 

Wees rein

Toe ek laas week vir die vroue gepreek het, het ek my vrou iets oor die onderwerp gevra.  ‘Kyk op Cosmopolitan se webblad,’ het sy gesê.  ‘As jy die teenoorgestelde sê sal jy reg wees.’

 

Wanneer dit by seksuele reinheid kom is dit ook so.  Om te weet wat jy moet doen, moet jy 2Sam. 11 lees (Dawid se egbreuk met Batseba) en die teenoorgestelde doen.  Eintlik het Dawid se sonde nie hier begin nie.  Die Here het al in Deut. 17:17 gesê dat die koning nie baie vroue moet hê nie, maar Dawid was ongehoorsaam (2Sam. 3:2-5, 5:13-16).  Sy huwelike met al hierdie vroue het ook gemaak dat hy nie eintlik ‘n verhouding met sy kinders gehad het nie (bv. Amnon en Absalom).

 

Al was hy dan ‘n man na God se hart, is sy gesinslewe nie juis die beste voorbeeld om na te volg nie.  Sy sonde met Batseba moet veral vir ons ‘n waarskuwing wees.  Manne, ek weet dat dit partykeer ‘n stryd is om jou begeertes in toom te hou.  Maar jy is nie hulpeloos nie.  As jy volgende stappe toepas, kán jy rein wees.

 

[1] Glo dat Jesus se kruisdood en opstanding genoeg is om jou sonde te oorkom (1Kor. 6:11, 9-10, Tit. 2:11-12).  Moet dit nie net weet nie, maar glo in Hom.

 

[2] Aanvaar persoonlike verantwoordelikheid.  Moenie sê dat pornografie ‘n siekte in jou brein is nie.  As jy saam met jou meisie slaap, is dit nie omdat jy uit ‘n gebroke huisgesin kom nie.  Jy kan nie jou egbreuk of emosionele gehegtheid aan jou sekretaresse op jou vrou blameer nie.  Ek sê nie dat jou vrou onskuldig is nie, maar moenie soos Adam die skuld van jouself wil afskuif en dink jy gaan daarmee wegkom nie (Gen. 3:12).  Erken eerder saam met Dawid dat dit jou eie skuld is, en dat jy teen die Here gesondig het (Ps. 32, 51).  Totdat jy dít nie doen nie, kan jy nie vergewe word nie (1Joh. 1:9).

 

[3] Bid baie vir die Heilige Gees se hulp (Luk. 11:13, Rom. 8:13).

 

[4] Memoriseer gepaste Bybelverse en gebruik dit wanneer jy versoek word (Ps. 119:11, Ef. 6:17).  As jy jou gedagtes met goeie dinge vul, sal dit die vuil dinge uitsuiwer (Rom. 12:2, Fil. 4:8).

 

[5] Vra jou vrou en ‘n betroubare Christen-vriend om vir jou te bid en jou aanspreeklik te hou.

 

[6] Onthou dat jy saam met Christus begrawe is, en dat jy as ‘n nuwe mens saam met Hom opgewek is – jy hóéf nie te sondig nie (Rom. 6:3-4, 11-14, 2Kor. 5:17).

 

[7] Herinner jouself aan die erns van sonde en aan die rykdom van God se vergifnis as jy die nagmaal gebruik.

 

[8] Maak ‘n skoon breek in sondige verhoudings (Spr. 5:8).  Raak ontslae van jou TV, die internet, jou selfoon, ens. as dit jou versoek om onrein te wees (Matt. 5:28-29, Rom. 13:14).

 

[9] Onthou dat mense wat in seksuele sonde volhard, hel toe gaan (1Kor. 6:9-10, Op. 21:8).

 

[10] Moenie ledig wees nie – dit is hoe Dawid geval het (2Sam. 11:1-2).

 

[11] Neem Num. 32:23 en Luk. 12:2 ernstig op:  “…weet dan dat julle sonde julle sal uitvind … En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.”

 

[12] Trou as jy enkel is.  Dit sal nie al jou probleme oplos nie, maar dit is ‘n oplossing (1Kor. 7:2, 9, 1 Tess. 4:4).

 

[13] Werk hard aan jou huwelik.  Jou vrou is soos ‘n plant wat tyd en aandag nodig het.  As jy haar afskeep moet jy nie verbaas wees dat jou huwelik soos ‘n verlepte plant lyk nie.  “In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek.” (Spr. 14:23).

 

Moet dan nie net dat jou vrou nr. 1 in jou lewe is nie; wys dit.  Hou op om jou kinders, vriende, familie, kerk, werk, en stokperdjies bo haar te stel.  Maak tyd om met haar te gesels en nie net om saam met haar te slaap nie.

 

[14] Moet jouself nie seksueel uithonger nie, maar geniet jou vrou as jy getroud is (1Kor. 7:3-5).

 

[15] Wellus is die saad waaruit die onkruid van egbreuk en pornografie groei (Matt. 5:27-28, Jak. 1:14-15).  Roei die saad uit en moenie net bossies uittrek nie.

 

[16] Lees The Purity Principle van Randy Alcorn.

 

[17] Vroue, help asb. julle broers in die Here.  Moenie so aantrek dat jy hulle versoek nie (Matt. 18:7, 1Tim. 2:9).

 

Ek glo jy het agtergekom dat Dawid ‘n goeie voorbeeld is, maar dat hy nie die perfekte voorbeeld is nie.  Hy is immers nie die Messias nie, maar ‘n sterflike mens soos ons (Hand. 2:29).  Die 15 helde wie se potlood sketse in my studeerkamer hang is ook nie volmaak nie.

 

Daar is net een volmaakte Verlosser en voorbeeld:  die seun van Dawid, Jesus Christus.  Behoort jy aan Hom?  “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1Joh. 2:6).  Uiteindelik is Jesus, nie Dawid nie, die Man na God se hart:  “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.  Luister na Hom!” (Matt. 17:5).

[1] Dawid het een keer besluit om wraak te neem.  Nadat hy goed was vir Nabal, het die dwaas hom kwaad aangedoen:  stank vir dank (1Sam. 25).  Dawid het besluit om hom dood te maak, maar terwyl hy oppad was het die Here Nabal se vrou na hom toe gestuur.  Sy het hom afgeraai en gesê dat die Here met Nabal sal afreken.  Dawid was dankbaar Abigail hom gekeer het.  Hy het haar raad gevolg en nié wraak geneem nie.  Tien dae later het die Here vir Nabal doodgemaak.

Advertisements

‘n Boodskap oor vermetelheid en dronkenskap

Drinking

Tydens een aanddiens het ‘n dronk vrou aanhoudend die preek onderbreek.  ‘Amen!  Ja, is pastoor!  Amen!’ het sy gesê.  By drie ander geleenthede het mense wat vol van dwelms was my straat prediking geopponeer.  Een man het my gevloek, ‘n ander een met my sleggesê, en die ander een het uitgeroep dat ons nie van God af is nie.

 

So het die dronk mense in Jes. 28:1-13 vir Jesaja geopponeer.  Die Here het hom met ‘n boodskap teen hulle gestuur.  Dit was hoofsaaklik ‘n boodskap oor hulle vermetelheid en dronkenskap.

 

Samaria se gemak (v.1-6)

Holland is ‘n streek aan die weskus van Nederland, maar die naam word ook gebruik om na die land in sy geheel te verwys.  Dieselfde was waar van Efraim:  dit was een van die twaalf stamme, maar is later gebruik om na die hele noordelike ryk van Israel te verwys (bv. in Hosea).

 

Toe Salomo dood is, het Israel in twee geskeur.  Samaria was die hoofstad van die noordelike ryk, terwyl Jerusalem die hoofstad van die suidelike ryk was.  In v.1-6 het Jesaja God se weë of oordele oor die noordelike ryk uitgespreek.

 

Samaria was op ‘n heuwel gebou (1Kon. 16:24).  Die stadsmure het soos ‘n kroon op iemand se kop gelyk (v.1).  ‘n Groen vallei van wingerde het Samaria omring; die stad het soos ‘n pragtige blom uitgestaan (v.1).  Samaria se inwoners was trots op hulle ‘kroon’ (v.1).  As God se volk het hulle vas geglo dat hulle veilig is.  Gevolglik het hulle ‘n gemaklike lewe van dronk partytjies gelei (v.1, Amos 2:8, 4:1, 6:6).

 

Hulle het nie opgemerk dat die blom besig is om te verlep nie (v.1, 40:6-8).  In 722 v.C. het die Here Assirië soos ‘n verwoestende haelstorm teen Samaria gestuur en haar in die vloed van sy oordele verdrink (v.2, 8:7).  Hy het die stad op die grond gegooi, die kroon en die pragtige blom onder sy voete vertrap (v.2-4a).  Deur Assirië het Hy Samaria soos die eerste ryp na-vy van die seisoen gepluk en ingesluk (v.4b).

 

Deur die Messias se Koninkryk sal God self ‘n kroon van heerlike skoonheid vir die oorblyfsel van sy volk sal wees, en sal Hy die ongeregtigheid uit Israel en die res van die aarde verwyder; Hy sal ‘n gees van geregtigheid in Israel en die wêreld se regsisteme gee (v.5-6, 11:2).  Hy sal ook sy kinders versterk om die vyand van die stadspoorte af weg te hou (v.6).  Hy sal m.a.w. sy volk beskerm.

 

Hoe moet ons v.1-6 op onsself toepas?  Soos Samaria is die mens van nature hoogmoedig en dink hy dat God se oordele hom nie sal tref nie (v.1).  Hy dink dat hy die hemel verdien, en dat dit nie dieselfde sal wees sonder hom nie.[1]

 

Jonathan Edwards het gesê:  ‘Byna elke ongelowige wat van die hel hoor, vlei homself dat hy dit sal ontvlug.  Hy maak op homself staat vir sy eie veiligheid.  Hy vlei homself op grond van wat hy gedoen het, wat hy nou doen, en wat hy beplan om te doen.  Hy dink hoe hy God se verdoemenis kan vermy, en vlei homself dat hy ‘n goeie plan uitgedink het, en dat sy planne nie sal misluk nie.  Hy hoor dat min mense gered is, en dat die meeste van hulle gesterf het en hel toe is.  Maar hy verbeel hom dat hy beter as ander mense vir sy ontvlugting beplan het.’[2]

 

Dit gebeur veral met dié wat sê dat hulle God se kinders is, maar dit nie is nie (soos Samaria).  Hulle dink dat hulle doop, kerklidmaatskap, tiendes, getuienis van redding of ouderlingskap hulle teen God se oordele sal beskerm, en dat hulle dus in hulle sonde kan voortleef.  Hulle sit snoesig en veilig in die kerkbanke, en dink dat God se toorn hulle nie daar kan bereik nie (Jer. 7:4, Amos 6:1, Matt. 22:11-13).

 

Hulle glo vas dat hulle ‘n blom in Jesus se tuin is, en dat Hy hulle eendag as ‘n pêrel vir sy kroon gaan kom haal.  Hulle herinner hulleself aan God se liefde, en sê vir hulleself dat Hy nie so sterk oor hulle sonde voel soos oor die moordenaar en verkragter s’n nie.  ‘Eens gered, altyd gered!’ is die skuilplek wat hulle oprig om hulle teen God se toorn te beskerm.  Dit is so dat geen gelowige sy redding kan verloor nie, maar hierdie mense gebruik dit as ‘n lisensie om hulle sonde te doen (v.1, Rom. 6:1).

 

So seker as wat die Here leef, Hy sal hulle onder sy voete vertrap, die trotste kroon van hulle koppe afruk en hulle in die hel gooi (v.3-4).  Hy sal hulle in die vloed van sy oordele verdrink (v.2).  Die hel maak sy mond wyd oop om hulle in te sluk (v.4).  Al wat hulle terughou is die genade van God.

 

As jy jou sonde haat en jou daarvan bekeer het, is jy nie die persoon van wie ek sopas gepraat het nie.  Jy hoef daarom nie vanaand wakker te lê nie.  Die persoon wat ek hierbo beskryf het, gebruik God se genade as ‘n dekmantel om sy sonde te regverdig.  Hy weet dat die Here hom vir sy sonde gaan oordeel, maar doen dit in elk geval omdat hy dink dat hy altyd weer vergifnis kan vra.  Hy besef nie dat sy lewe van sonde besig is om hom hard te maak, sodat hy later nie meer ‘n begeerte sal hê om na die Here toe te draai nie.

 

Hy verdedig sy sonde deur te sê dat hy darem nog kerk toe gaan, die Bybel lees en bid.  Hy dink dat sy ‘goeie stiltetye’ ‘n aanduiding is dat sy dronkenskap of egbreuk nie verkeerd is nie, en dat die Here met hom tevrede is.  Hy is al so ver heen, dat sy gewete hom nie meer pla nie.  Hy is soos Jona wat in die storm slaap, en soos Samaria wat rustig sit en drink terwyl die storm van God se oordeel oor hulle broei.

 

Hy is soos die los vrou in Spr. 7:14 wat gedink het dat haar godsdienstige aksies haar sonde uitbalanseer, en dat die Here dit daarom nie ernstig opneem nie.  Ander mense kan sien dat hy op die verkeerde pad is, maar hy ontken dit.  Soos Israel van ouds raak hy kwaad as God se boodskappers sy sonde uitwys (2Kron. 16:10).

 

Hy lees daarom net die verse oor God se genade en liefde, omdat dit hom lekker laat voel (2Tim. 4:3-4).  Hy het geleer om die dele uit te blok wat oor God se heilige karakter, sy oordele en sy haat vir sonde gaan.  Hy het sy eie goedkoop teologie van genade en van Jesus se kruisdood geformuleer.  In sy oë beteken Jesus se kruisdood dat sy sonde vergewe is, en dat hy daarmee kan aanhou.  Wat God se genade betref dink hy dat dit oneindig is, en dat God se geduld nooit opraak nie.

 

Maar waar het die Here ooit gesê dat sy genade geen perke het nie?  Wys tekste soos Heb. 6:4-6 nie duidelik dat sommige mense die grens van God se genade oorskry, en dat hulle daarna nie weer kan terugkeer nie?  En het Jesus nie self gesê dat daar so iets soos die onvergeeflike sonde is nie?

 

As jy jouself dan ‘n Christen noem en met sonde besig is, moet jy jou ore spits.

 

Jerusalem se feesviering (v.7-13)

Paul Kruger het drank gehaat en net melk gedrink.  En tog het hy geglo dat dit nie sonde is as iemand drank gebruik nie.  ‘Drank is ‘n gawe van God aan die mens, en as dit in matigheid gebruik word is dit nie sonde nie,’ het hy gesê.  Hy het verstaan dat dit verfrissend kan wees na ‘n dag se harde werk.  Wat hy gehaat het was dronkenskap.[3]  En dit is presies die punt in v.7-13.

 

Samaria het hulleself dronk gedrink en onder God se oordeel beland.  En het die leiers van Jerusalem regtig gedink dat húlle daarmee gaan wegkom?  Die priesters en profete moes God se Woord vir die volk bring en vir hulle wys hoe om dit in hulle lewens toe te pas.  Maar hulle kon dit nie doen nie, omdat hulle dronk was (v.7, 5:11, 22).  Hulle was so dronk dat die tafels vol van opgooi was (v.8).

 

Hoekom was hulle dronk?  Hulle het fees gevier, omdat Egipte belowe het om hulle teen Assirië te help (v.15, 30:1-7).  Soos met baie ongelowiges, het hulle die goeie tyding met drank gevier.  Hulle het die wyn ingesluk, maar op die einde het dit hulle ingesluk (v.7).  Die drank het hulle verwar en gemaak dat hulle nie goeie leiding kon neem nie (v.7).  Hulle visioene het nie van die Here af gekom nie, maar die alkohol het gemaak dat hulle snaakse dinge sien (v.7).  Hulle kon nie meer tussen reg en verkeerd onderskei nie; die drank het gemaak dat hulle die reg verdraai en verkeerde dinge sê (v.7).  Dié wat hulle geraadpleeg het kon net sowel ‘n dronk predikant vir berading gevra het, of vir ‘n dronk prokureur gevra het om hulle saak te beveg.

 

Terwyl die geestelike leiers dronk om die tafel gesit het, het Jesaja ingestap.  ‘Vir wie wil jy kennis leer en God se boodskap verduidelik – vir babas wat nog melkies drink?’ het hulle gesê (v.9).  ‘Jy gee mos melk vir die volk, asof hulle kinders is:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie.’ (v.10).

 

Maar Jesaja het juis so gepreek, omdat die volk a.g.v. sulke leiers geestelike babas was, en nie die vleis en aartappels van God se Woord kon verteer nie – hulle het melk nodig gehad.  Hy het dus eenvoudig gepreek, sodat almal dit kon verstaan, en sodat hulle nie ‘n verskoning gehad het vir waarom hulle hulle nie bekeer het nie.  Jesaja het die volle waarheid van God vir die volk gegee; Hy het niks uitgelos of oorgeslaan nie (v.10).  Maar Jerusalem en haar leiers het sy prediking geïgnoreer (2Kron. 36:15-16).

 

Gevolglik sou die Here hulle deur mense van ‘n vreemde taal getugtig het (v.11).  In die Ou Testament was Assirië en Babilon die vreemde nasies deur wie Hy sy volk getugtig het (v.11, Deut. 28:49, Jer. 5:15).  In die Nuwe Testament was ander lande se tale die teken dat die Here sy volk deur die Romeine – ‘n volk wat ‘n ander taal gepraat het – sou tugtig, en dat Hy die evangelie van die Jode af sou wegneem om dit na alle tale toe te versprei (Hand. 2:4-13, 14-23, 36).

 

God het die evangelie by sy volk weggevat, omdat hulle die eenvoudige verkondiging daarvan in hulle eie taal verwerp het (v.9-10).  Hulle wou nie die rus van sy verlossing gehad het nie, maar het dit van die hand gewys (v.12, 30:15, Matt. 11:28-30).  Hulle het eerder in Egipte en hulle eie planne gerus as in die Here (v.12, 15-16).

 

Israel het God se volledige Woord in hulle eie taal verwerp, en daarom het Hy sy oordele in ‘n taal aangekondig wat hulle nie verstaan nie (v.11, 13).  Het Jesus nie in gelykenisse gepreek wat die volk nie verstaan het nie (Matt. 13:10-17)?  Dit is byna of Hy gesê het:  ‘Toe dit verstaanbaar was, wou julle nie luister nie.  Nou sal Ek dit so eenvoudig maak, dat wyse en geleerde mense dit nie kan uitwerk nie, maar dat net geestelike kinders dit kan verstaan’ (Matt. 11:25).

 

Omdat die Jode se geestelike leiers die boodskap nie verstaan het nie, het hulle hulle nie bekeer nie.  En omdat hulle hulle nie bekeer het nie, het hulle in die vyand se vangnet beland en is hulle weggevoer (8:15).

 

So was dit ook in die Nuwe Testament.  Die volk en haar geestelike leiers het die Woord nie verstaan nie.  Gevolglik het hulle hulle nie tot die Messias bekeer nie, maar Hom gekruisig.  In 70 n.C. het die Here hulle hiervoor geoordeel.  Hy het sy Woord vir die Jode weggesteek en dit na die heidene toe gestuur (6:9-10, Amos 8:11, Hand. 28:25-28).  Dit is wat gebeur wanneer mense elke geleentheid in die wêreld het om die Woord eenvoudig te hoor (gesonde kerke, goeie preke op die internet, goeie Christelike boeke, ens.), maar nie daarop ag gee nie.

 

Wat het v.7-13 vir ons te sê?

 

[1] Persoonlik verkies ek dit om glad nie te drink nie.  Ek wil nie aspris iets voor iemand drink as dit hom in die versoeking gaan bring, of as dit sy gewete gaan pla nie (Rom. 14:21, 1Kor. 8:13).

 

En tog sê die Bybel nie dat dit sonde is as iemand ‘n glas wyn of ‘n bier drink nie.  In Deut. 14:26 het die Here vir Israel gesê dat hulle wyn of sterk drank by hulle feeste mag drink.  Ps. 104:15 sê dat wyn ‘n gawe van God is om die mens ontspanne en gelukkig te maak.  In 1Tim. 5:23 het Paulus vir sy jong vriend gesê om nie net water te drink nie maar ook wyn, sodat die alkohol die kieme in sy maag kan doodmaak.

 

Ons weet ook dat Jesus wyn gedrink het (Matt. 11:19).  Party mense dink dat die wyn in Jesus se tyd met water verdun is, en dat daar skaars alkohol in was.  Maar dit was nie altyd die geval nie.  Jesus het bv. die water in wyn verander, en nie die goeie ‘ou’ wyn met water verdun nie.  Ons weet ook dat daar genoeg alkohol in die wyn was om ‘n mens dronk te maak (v.7, 1Kor. 11:21).

 

En dít is juis waar die probleem lê:  ons moenie so baie drink dat ons dronk word nie (v.1, 7-8).  Ongelowiges gebruik elke geleentheid om dronk te word:  restaurante, motorfiets klubs, sosiale geleenthede, sport byeenkomste, partytjies, jaareindfunksies, jag, visvang, Kersfees, ens.  Wanneer ongelowiges rustig en gemaklik voel, drink hulle.  Wanneer hulle bly is, drink hulle.  Wanneer hulle depressief is, drink hulle.  Wanneer hulle bekommerd is, drink hulle.  Wanneer hulle probleme het, drink hulle.  Wanneer hulle verward en verlore voel, drink hulle.

 

Drank is hulle baas, omdat Jesus nie is nie (v.12, 7).  As hulle net na Jesus toe wil kom sal Hy hulle vry maak en die leemte in hulle siele vul (Joh. 4:14, 8:36).  Sy Persoon, kruisdood, opstanding en die Heilige Gees is meer as bekwaam om met hulle drank probleem af te reken.  Jesus kan hulle dors beter les as wat die drank kan, maar hulle glo dit nie, en daarom bly hulle vasgevang in die net van hulle sonde.

 

[2] ‘n Ongelowige wat jare gelede ons dienste bygewoon het, het by ‘n ander gemeente se kerkkamp vir die leraar gevra of sy en haar kêrel ‘n kamer kan deel.  Hy het nee gesê.  ‘Maar ons is mos nie meer kinders nie,’ was die vrou se reaksie.  Soos die vals profete in v.9-10 het sy gemaak of die Bybel se verbod teen seks buite die huwelik kinderagtig is.

 

Mense soek allerhande verskonings om nie dit-en-dat in die Bybel te aanvaar nie.  Soms sê hulle dat dit nie duidelik genoeg is nie.  Ek dink bv. aan God se lering oor homoseksualiteit en seks voor die huwelik.  Mense sê dat dit nie duidelik genoeg is nie, terwyl die waarheid is dat ‘n kind dit kan verstaan (v.9-10).  Maar die rede hoekom dit volgens hulle nie ‘duidelik’ is nie, is omdat hulle nie hulle sonde wil los nie.

 

[3] Ons moet die volle raad van God verkondig:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie (v.10, Hand. 20:27).  Om hierdie rede glo ek dat Skrif verklarende- of eksposerende prediking die beste is (Neh. 8:9).  Jy preek nie net die tekste waarvan jy hou nie, maar ook die dele wat moeilik is om te sluk.  As ‘n mens vers vir vers deur boeke van die Bybel preek, kan niemand sê:  ‘Jy het aspris daardie teks gekies om my aan te spreek’ nie.  Nee, ek het nie.  Ek het net die volgende gedeelte gepreek.

 

Eksposerende prediking gee vir die skape ‘n gesonde, gebalanseerde dieet van die Woord.  God het die Bybel in boeke, verse en hoofstukke geskryf, en daarom moet ons dit ook so preek.  Hy het elke detail daarvan geïnspireer, en daarom moet ons elke detail daarvan preek (2Tim. 3:16-4:2).

 

[4] In 1Kor. 14:21 haal Paulus Jes. 28:11 aan om te wys dat gemeentes wat in tale praat sonder dat dit uitgelê word, onder God se oordeel is (vgl. Gen. 11:1-9, 1Kor. 14:22).  Wees dan versigtig vir charismate wat in tale praat, sonder dat daar ‘n uitleg is.

 

Rowland Hill was ‘n Engelse prediker in die 18de en 19de eeu.  ‘n Dronk man het eenkeer na hom toe gekom en vir hom gesê.  ‘I am one of your converts, Mr. Hill.’  ‘I dare say you are, but you are none of the Lord’s, or you would not be drunk,’ het die wyse mnr. Hill geantwoord.[4]

 

Behoort jy aan die Here?  Moet dan nie soos Samaria en Jerusalem toelaat dat alkohol of enige iets anders jou beheer nie, maar word vervul met die Heilige Gees (Ef. 5:18).

 

[1] R.C. Sproul, The Holiness of God, Tyndale House Publishers, Carol Stream: Illinois, 1985, 1998, p.150

[2] Vry vertaal uit Jonathan Edwards, Works: Vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1834, 1974, 1976, p.8

[3] Martin Meredith, Diamonds, Gold and War, PublicAffairs, New York, 2007, 2008, p.170

[4] Aangehaal in C.H. Spurgeon, The Soul Winner, Whitaker House, New Kensington: PA, 1995, p.32

Vryheid vir slawe

Slave set free

Verlede Saterdag (14 Maart 2015) het Suid-Afrikaanse atleet, Tiaan Jacobs, buite die Herman Immelman stadion in Germiston opgewarm.  Hy is deur 3 mans ontvoer en kort na 23:00 in ‘n park naby die stadion afgelaai.  Hy het veilig by sy ouers uitgekom.  Dit kon erger gewees het.  Vandag noem mense dit dit ‘human trafficking’.  Die meer bekende naam is slawerny.  Israel was vir 430 jaar slawe in Egipte.  Dié slawerny vind sy Nuwe Testament eweknie in mense se slawerny aan Satan en sonde.  Maar God kan slawe in die ergste omstandighede bevry.  Eksodus 12:29-42 illustreer dit.

 

Vry deur sy oordeel (v.29-32)

Die Afrikaanse spreekwoord sê:  ‘Die een se dood is die ander se brood’.  Dit beteken eenvoudig dat een persoon voordeel trek uit ‘n ander se skade.  In ‘n groot hael storm ly motoreienaars ernstige skade.  Maar jóú skade beteken vir die glasplekke en paneelkloppers groot wins.  Net so was die dood van Egipte se eersgeborenes die Israeliete se vryheid (v.29-32).  In die Nuwe Testament het God sy Eersgeborene laat sterf om ons te red:  sy dood is ons brood.  Hy self het gesê:  “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid.  En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” (Johannes 6:51).

 

Om middernag het God die Egiptenare getref.  Hulle opper-songod, Amon-Ra, kon hulle nie help nie.  Al die eersgeborenes in Egipte is dood:  van die opvolger tot die troon (Farao se seun, die inkarnasie van die gode Amon-Ra en Osiris), tot die seun van die gevangene, tot die eersgeborenes van die vee (die gode was veronderstel om dié ‘heilige’ vee te beskerm).  Hoekom het God net die eersgeborenes getref (v.29)?  Die eersgeborenes was verteenwoordigend van die hele bevolking (v.29, 4:22-23, Numeri 8:17).

 

Farao, sy dienaars, en die hele Egipte het in die nag opgestaan en gehuil (v.30, 11:4-6).  In elke huis was daar iemand dood (v.30).  Die gode het hulle nie gehoor nie, en kon hulle buitendien nie help nie.  Farao het nie weer vir Moses gesien nie (10:28-29), maar het ‘n boodskap gestuur en gesê hulle moes trek om die Here te dien (v.31, 3:19-20). Dié keer het hy ook gesê hulle moet die vee saamvat (v.32, 10:24).  Hy was nie bereid om self die Here te aanbid en seën te vra nie, maar het gevra dat Moses hom moes seën (v.32).  Dit laat my dink aan ongelowiges wat nie self kerk toe wil gaan nie, maar vir Christene vra om vir hulle te bid.

 

Vry deur sy belofte (v.33-42)

‘n Week gelede het my vriend en sy gesin by ons huis kom oorslaap, voordat hulle met vakansie is.  Hulle moes nege tasse op die kar se dak vasmaak, asook vyf kinders en vier volwassenes gereed kry om 06:00 te ry.  Om in ‘n konfooi te ry is nog moeiliker.  Hoe moeilik moet dit wees om in ‘n konfooi met 64 ossewaens te trek?  Of erger:  3 miljoen mense en ‘n paar miljoen vee wat uit Egipte uittrek (om dit in perspektief te sit:  daar trek jaarliks 1.5 miljoen wildebeeste oor die Mararivier in die Serengeti)?  God sorg vir sy volk en het hulle volgens sy belofte aan Abraham (Genesis 15:14) veilig uitgelei.

 

Die Egiptenare was desperaat dat Israel moes trek en het hulle haastig uit die land uitgestuur.  Hulle was bang dat die Here hulle almal sou doodmaak.  Die Israeliete het nie tyd gehad om te wag dat die deeg moes ruis nie.  Daarom het hulle ongesuurde brood gehad vir padkos.  Volgens God se opdrag het die volk die Egiptenare gevra vir goud, silwer, en klere (11:2-3).  Hulle sou dit later gebruik het vir die tabernakel.  God het vir die Israeliete guns gegee in die oë van die Egiptenare (Spreuke 16:7).  Volgens die profesie in 3:21-22, het die Israeliete die Egiptenare gestroop.

 

Die volk het Suid-Oos gereis van Raämses (1:11!) tot by Sukkot.  As jy op ‘n kaart kyk sal jy wonder hoekom:  Kanaän lê dan Noord-Oos!?  God het hulle in dié rigting laat trek, omdat Hy sy mag wou toon by die Rooisee, Farao en die Egiptenare daar wou verdrink, en wou keer dat die Israeliete sou bang word as hulle by die Filistyne se grens kom (13:17-18).

 

Die mans bo 20 wat saamgetrek het, was 600 000 (Numeri 1:46).  As elke man een vrou en een kind gehad, was daar naby 2 miljoen mense.  Ek kan jou amper verseker dat elke man nie net één vrou en kind gehad het nie.  Daar was seker maklik 3 miljoen of selfs meer mense.  Die volk het inderdaad soos die sterre geword (Genesis 15:5).  Daar was ook nog ‘n gemengde spul heidene wat saam getrek het (Levitikus 24:10-11, Numeri 11:4).  Hulle was seker bang was Here tref hulle, daarom het hulle saamgetrek (9:20-21).  Daar was ook baie vee.  As elke man net 10 vee gehad het was daar 6 miljoen.  Ek reken dat daar seker maklik 10 miljoen of meer vee was.  Dié vee was nodig vir die offers wat hulle in die woestyn moes bring.

 

Hierdie groot trek noem ons die eksodus of die uittog.  Soos Moses het Jesus ook ‘n uittog gelei.  In Lukas 9:31 het Moses en Elia aan Jesus verskyn en met Hom gepraat oor die uittog wat hy in Jerusalem sou bereik.  Die Griekse woord vir uittog is ‘eksodus’.  Jesus het meer as net 3 miljoen Jode en heidene uit slawerny bevry, en is besig om hulle na die hemelse Kanaän toe te lei.

 

Die Israeliete het nie eintlik padkos saamgevat nie (v.39).  Die Here het dit so bewerk, omdat Hý vir hulle kos – manna en kwartels – sou voorsien in die woestyn.  Die volk was presies vir 430 jaar in Egipte (sien 6:16, 18, 20, 7:7).  God het dié 400 jaar (afgerond) aan Abraham voorspel (Genesis 15:13).  God het oor sy volk gewaak toe hulle daardie nag uit Egipte getrek het (Psalm 121, 127:1).  Deur al hulle geslagte het die Israeliete die aand van hulle uittog as ‘n fees herdenk:  die Paasfees.

 

Watse lesse leer ons uit hierdie verse?  Dink reg oor die slawerny van sonde.  Is jy ongered?  Jy roem daarin dat jy nie soos Christene gebind is aan ‘n stel Bybelse reëls nie:  ‘Die Bybel sê seks is vir die huwelik en ons moenie dronk word nie (Hebreërs 13:4, Ef.5:18).  Ek is nie so outyds nie.  Ek is vry en kan drink soveel ek wil, en slaap met wie ek wil.’  Die feite is dat jy nie vry is nie, maar ‘n slaaf van jou sonde (Johannes 8:34).  Seks en drank is jou baas vir wie jy nie kán nee sê nie!  Daar is geen hoop solank as wat jy sonde doen en sê jy is vry nie (Johannes 8:33, 9:40, 1 Johannes 1:8, 10).  Om te sê jy is vry en kan sondig soos jy wil, is soos om te sê:  ‘Ek is vry en kan daarom weer ‘n slaaf word of tronk toe gaan.’  Dit maak nie sin nie.  Jy is nie vry om ‘n slaaf te wees nie.  Jesus het gekom om ons te bevry van sonde en nie vir sonde nie.

 

Leef jy in sonde, maar jy sê jy is ‘n Christen?  Jy bedrieg jouself en is ongered.  Jy is ‘n slaaf.  Die Bybel sê:  “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Romeine 6:16).

 

Haat jy jou sonde?  Stry en sukkel jy hard daarteen?  Moet jouself nie as ‘n slaaf etiketeer nie.  Christene wat met seks, drank, of homoseksualiteit versoek word, is nie egbreukers, dronkaards, of homoseksueles nie.  Dalk wás hulle dit voor hulle redding, maar hulle is dit nie meer nie (1 Korintiërs 6:9-11).  Jy is ‘n vry mens en hoéf nie te sondig nie.  Leef vry soos iemand wat saam met Christus gekruisig en opgewek is (Romeine 6:1-14, Galasiërs 5:1, 4:7).  As Jesus jou deur sy waarheid vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees (Johannes 8:32, 36).  Hy het gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Johannes 3:8).  Sekerlik was Hy nie onsuksesvol nie.

 

God kan ‘n volk bevry wat vir 430 jaar onder die Farao’s se mag was (v.40).  Kan Hy dan nie iemand vry maak wat vir jare ‘n seks-, drank-, of dwelmslaaf was nie?  Johannes was ‘n vurige man wat seker ook ‘n probleem met woede gehad het.  Jesus noem hom en sy broer ‘die seuns van donder’ (Markus 3:17).  Hy het mense stilgemaak wat nie deel was van hulle groep nie (Lukas 9:49).  Hy wou vuur uit die hemel roep om die Samaritane te verbrand (Lukas 9:54).  Maar Jesus het hom verander.  Hy het van homself gepraat as die dissipel vir wie Jesus liefgehad het (Johannes 21:20, 24).  Dis byna of hy nie kon glo dat Jesus hóm kon liefhê nie.  Hy was teer en vol ontferming.  Hy het van die gelowiges gepraat as ‘my liewe kinders’.  Hy het hulle gedurig aangespoor om mekaar lief te hê (1 Johannes 3:18).

 

Oorwin jou sonde deur:

 

  • Die genade van Jesus in sy kruisdood: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:11-12).
  • Belydenis en bekering: “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:7, 9). “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13).
  • Die hulp van die Heilige Gees: “as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” (Romeine 8:13).
  • God se beloftes: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2 Korintiërs 7:1).
  • Die Bybel: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Psalm 119:11).

 

Hoekom is dit so belangrik dat jy reg moet dink oor die slawerny van sonde?  Want die gevolge is ewig.  As jy verkeerd dink verloor jy die hemel en is jou lot die hel.

 

Ek ken ‘n vrou wat verslaaf was aan heroïene.  Sy het R1000 per dag spandeer aan dwelms.  Sy was ‘n paar keer in die tronk hieroor; een keer vir ’n jaar.  Sy was ook in rehabilitasie sentrums.  Sy het een keer so ‘n swaar oordosis van heroïene gebruik dat haar vriende gedink het sy is dood.  Sy was selfs vir ‘n tyd ‘n prostituut om geld te kry vir dwelm.  Haar tande was so erg beskadig dat sy ‘n herkonstruksie moes kry.  Sielkundiges het vir haar gesê dat 2.5% van heroïen verslaafdes skoon kom, en dat sy daarvan sal doodgaan.

 

Op ‘n dag was haar begeerte vir die Bybel oorweldigend – sterker as haar lus vir dwelms.  Sy het vir ure gelees as haar ma werk toe gaan.  As haar ma daar was het sy skelm gelees.  Sy wou nie hê haar Christen-ma moes uitvind sy stel belang in die Bybel nie.  Sy het onder diep sonde oortuiging gekom en die Here het haar gered.  Sy het nooit weer teruggedraai na die dwelms toe nie.  Sy het uit ondervinding geleer dat daar in Jesus vryheid is vir slawe.

Les jou sielsdors

Glass of water in desert

4 En Hy moes deur Samaría gaan. 5 Hy kom toe by ‘n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. 6 En die fontein van Jakob was daar.  Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, somaar by die fontein gaan sit.  Dit was omtrent die sesde uur. 7 Daar kom ‘n vrou uit Samaría om water te skep.  Jesus sê vir haar:  Gee vir My water om te drink—8 want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop. 9 En die Samaritaanse vrou sê vir Hom:  Hoe is dit dat U wat ‘n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ‘n Samaritaanse vrou is?  Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie. 10 Jesus antwoord en sê vir haar:  As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê:  Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het. 11 Die vrou sê vir Hom:  Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? 12 U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee? 13 Jesus antwoord en sê vir haar:  Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. 15 Die vrou sê vir Hom:  Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie. 16 Jesus sê vir haar:  Gaan roep jou man en kom hier. 17 Die vrou antwoord en sê:  Ek het nie ‘n man nie.  Jesus sê vir haar:  Jy het reg gesê:  Ek het nie ‘n man nie; 18 want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.  Dit het jy met waarheid gesê. 19 Die vrou sê vir Hom:  Here, ek sien dat U ‘n profeet is. 20 Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is.” (Johannes 4).

 

Die afspraak (v.4-6)

Die Jode het geglo die Samaritane is onrein.  Sommige Jode sou eerder ‘n ompad loop as om deur die Samaritane se streek te reis.  Jesus was oppad van Jerusalem in die suide van Israel na Galilea in die noorde (v.3-4, 45).  As Hy wou kon Hy die Samaria-streek vermy en kuslangs reis.  Maar Hy was haastig en het die kortpad deur Samaria gevat.  Daarom sê Johannes Hy moés deur Samaria gaan.  Maar daar is ‘n ander rede waarom Hy deur hulle streek moés gaan:  Hy het ‘n ‘afspraak’ gehad met ‘n sekere vrou.  Hy het beplan om haar te red.  Die ontmoeting het plaasgevind buite ‘n dorp met die naam Sigar; naby die stuk grond wat Jakob as geskenk aan sy ‘blou-oog seun’ Josef gegee het (v.5, sien Genesis 48:22, Josua 24:32).  Net ‘n vraag voor ek verder gaan:  dink jy dis toevallig dat jý hierdie preek lees of hoor?  Of moés jy dit lees/hoor, omdat Jesus ‘n afspraak het met jou; omdat Hy beplan om jou te red?

 

Sigar is omtrent 50 kilometer van Jerusalem af.  Daar was geen taxi’s of busse nie.  Jy kan jou indink hoe moeg Jesus was, nadat Hy so ver moes stap in die warm woestynson.  Hy was moeg en het langs die put gaan sit (v.6).  Hy was dors en het gevra vir iets om te drink (v.7).  Hy was honger en het sy dissipels dorp toe gestuur om kos te koop (v.8).  Al hierdie dinge bewys vir ons dat, alhoewel Jesus volkome God is, Hy ook volkome mens was.  Johannes sê dat dit die sesde uur was (v.6).  Die Romeine tel van 12 uur die middag of aand af.  Indien Johannes dié tydsindeling volg, beteken dit dat dit omtrent 18:00 was – die gewone tyd wat vroue water sou kom skep (Genesis 24:11).  Maar die Jode tel van 6 uur in die oggend of aand af.  Indien Johannes die Joodse tydsindeling gebruik het, was dit nou 12 uur in die middag.  Dan het hierdie vrou op ‘n ongewone tyd kom water skep.  As gevolg van haar sondige leefstyl was sy ‘n uitgeworpene in die samelewing.  Maar al verwerp almal jou as die slegste sondaar – by Jesus is daar hoop.

 

Die aanbod (v.7-15)

Jesus was dors.  Hoekom het Hy nie sy dissipels vir water gevra nie:  dit was mos algemeen vir dissipels om hulle leermeester te bedien?  Hoekom het Hy nie ook vir die vrou kos gevra nie?  Die antwoord op beide vrae is in v.8:  “want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop.”  Daarom het Jesus die vrou gevra vir water (v.7).  Maar daar was nog ‘n rede hoekom hy vir haár gevra het:  Hy wou ‘n gesprek aanknoop om die evangelie met haar te deel (‘n goeie evangelisasie-wenk).

 

Die vrou was verbaas dat ‘n Joodse man met haar, ‘n slegte Samaritaanse vrou, sou praat.  In die eerste plek het mans nie in die openbaar met vroue gepraat nie (v.27), en in die tweede plek sou Jode en Samaritane nie eers dieselfde eetgerei en kruike gebruik het nie (v.9).  Die Jode het die Samaritane gehaat.  As ‘n Jood jou wou slegsê sou hy jou ‘n ‘Samaritaan’ noem (8:48).  En as ‘n Samaritaan geweet het jy het simpatie met die Jode, sou hy jou ignoreer (Lukas 9:53).  Die Samaritane was volbloed Jode wat as slawe weggevoer is Assirië toe.  Die paar wat in Samaria agtergebly het, het uiteindelik met Assiriërs en ander volke ondertrou en is uitgebaster, sodat hulle nie meer suiwer Jode was nie (sien 2 Konings 17).  Maar Jesus het hierdie tradisie geïgnoreer, want Hy het gekom om mense van alle nasies, sosiale klasse, en morele agtergronde te red.  In Johannes 3 deel Hy die evangelie met ‘n morele Joodse man, en in Johannes 4 met ‘n immorele Samaritaanse vrou.  Johannes 4 is onder andere in die Bybel, om te wys hoe Jesus die plek van die vrou in die samelewing kom herstel het.

 

Jesus het vir die vrou gesê dat sy Hóm vir water sou vra as sy regtig geweet het dat Hy lewende water kon gee (die gawe van die ewige lewe en die Heilige Gees):  “Jesus antwoord en sê vir haar:  As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê:  Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” (v.10).  Sien jy dit?  As sy gevra het, sou Jesus dit vir haar gegee het.  Dit is die evangelie:  God gee die ewige lewe gratis as jy jou dors erken (sonde oortuiging), jou gekraakte waterbak los (bekering), en vra vir die lewende water (geloof).

 

Maar die vrou was blind vir geestelike dinge.  Sy het nie verstaan wat Jesus sê nie.  Haar antwoord wys dit:  “Die vrou sê vir Hom:  Here, U het nie eens ‘n skepding [‘n emmer aan ‘n tou] nie, en die put is diep [omtrent 40 meter – dit bestaan vandag nog]; waarvandaan kry U dan die lewende water?” (v.11).  Ai, die blinde hart van die sondaar.  Toe Jesus vir Nikodemus sê hy moet weergebore word, was sy reaksie:  “Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word?  Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?” (3:4).  In Johannes 6 het Jesus gepraat van brood wat jou vir ewig kan versadig.  Die Jode se reaksie was:  “Here, gee ons altyd hierdie brood.” (6:34).  Ongelowiges verstaan nie geestelike dinge nie:  “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (1 Korintiërs 2:14).

 

Die vrou was teen dié tyd ‘n bietjie opgewerk:  “Dink Jesus Hy is groter as Jakob?  Hy kan miskien lewende water gee, maar Jakob het die put gegee waaruit die water kom (v.12).”  Natuurlik is Jesus groter as Jakob.  Jakob moes elke dag water gaan skep – die vrou ook.  En indien iemand nie water drink nie sal hy doodgaan.  Die persoon wat nie van Jesus se water kry nie sal geestelik sterf, maar die een wat daarvan drink sal nie weer dors word soos mense wat van Jakob se put gedrink het nie.  Inteendeel, die bron en fontein van lewende water sou binne-in die persoon wees (v.13-14).  Anders gestel:

 

“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe” (3:36).

 

“En Jesus sê vir hulle:  Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (6:35).

 

“En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê:  As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!  Hy wat in My glo, soos die Skrif sê:  strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.  En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” (7:37-39).

 

“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes.  Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” (10:10).

 

“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” (17:3).

                                                                                                                  

“En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” (Isaiah 12:3).

 

Enigiemand wat hierdie fontein van lewende water (Jesus en sy evangelie) verruil vir die vuil waterbakke van seks, dwelms, drank, of enigiets anders, is ’n dwaas.  In Jeremia 2:13 sê die Here:  “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen:  My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.”

 

Leer nog ’n les uit die vrou se reaksie in v.12:  solank as wat jy dink jou godsdienstige erfenis (Jakob, in haar geval) is groter as Jesus, kan daar geen verlossing wees nie.  Jou eie ‘waterput’ van seks, dwelms, drank, godsdiens of watookal, is onvoldoende.  Jesus alleen kan jou dors les en die leemte in jou siel versadig.  Pasop dat jy nie soos die vrou is nie:  “Die vrou sê vir Hom:  Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.” (v.15).  Sy wou die voordele hê wat Jesus kon gee.  Sy wou die lewende water hê om die ongerief van 800 meter se stap elke dag, te vermy.  Party mense soek so ‘n evangelie:  “As jy Jesus dien sal jy ryk, gesond, en voorspoedig wees” (die vals ‘Prosperity Gospel’).  Die vrou het nogsteeds nie haar nood vir Jesus en sy lewende water gesien nie (v.14).

 

Die oortuiging (v.16-20)

Jesus het nou haar gewete geteiken:  Hy het haar gevra om haar man te roep (v.16).  Haar gewete het haar gepla, omdat sy in seksuele sonde saam met ‘n man gebly het.  Dadelik het sy haar sonde probeer toesmeer deur te sê:  “Ek het nie ‘n man nie.” (v.17).  Sy het nie die hele waarheid vertel nie.  Sy het probeer om haar verlede en hede vir Hom wegsteek.  Leer tog:  daar kan geen verlossing wees, totdat jy nie jou sonde erken nie (Spreuke 28:13).  Jesus het gekom om sondaars te red – nie self-regverdige mense wat sê dat alles reg is nie (sie Lukas 18:9-14).

 

Jesus het vir die vrou gewys dat seksuele losbandigheid (net soos drank, dwelms, en ander sondes) haar leeg laat.  Sy het gedink:  “Miskien sal hierdie die man wees wat my gelukkig maak?”  Maar haar dors was nie geles nie.  Sy was al 5 keer getroud en het, toe Jesus met haar praat, in seksuele sonde gelewe met ‘n man (v.17-18).  Sy het uiteindelik erken dat dit so is, en het bely dat Jesus haar geheime denke en dade ken (v.19).  Maar sy was nog nie gered nie.  Om jou sonde te erken is nie genoeg nie – selfs al het jy trane daaroor.  Ek het al baie keer gesien hoe mense huil wanneer ek met hulle die evangelie deel.  Maar dan blý hulle ongered.  2 Korintiërs 7:10 sê:  “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.”  Sommige mense huil, omdat die sonde hulle laat skuldig voel, en ander omdat hulle nie die gevolge van hulle sonde wil hê nie.  Nog ánder huil omdat hulle jammer is hulle is uitgevang.  Geeneen van hierdie dinge is ‘n plaasvervanger vir ware berou en bekering nie.  Die vrou was nog nie gered nie.

 

Die vrou het die onderwerp van haar sonde na godsdiens toe verander (v.20).  Sy het dit gedoen, omdat sy haar sonde wou ontduik.  Sy het godsdiens as haar onderwerp gekies, omdat sy haar gewete wou sus.  Baie mense werk so met godsdiens.  Hulle woon kerk by, lees die Bybel, bid, gee tiendes, en doen ander godsdienstige dinge, om hulle gewete stil te maak (veral wanneer die sonde erg pla).  Hulle dink dat hulle goeie dade die slegte dade sal uitkanselleer voor God.  Ander mense sê net vir hulleself dat skuldgevoelens die gevolg van ‘n slegte selfbeeld is, en probeer hulle selfbeeld opbou.  Ander drink of gebruik dwelms om van hulle gewete te ontsnap.  Maar sodra die verdowingsmiddel uitgewerk het, sit hulle probleem lewensgroot voor hulle neuse, en hulle gewete pla hulle nogsteeds.

 

Die vrou het Jesus nodig gehad (soos sy uiteindelik besef het), want net Hy kan afreken met die oorsaak van ‘n skuldige gewete, naamlik die skuld self.  Jesus het deur sy kruisdood die rekord van ons skuld afbetaal.  Hy het die sondaar se skuld op Homself geneem en die straf daarvoor gedra.  Hy is begrawe en het opgestaan uit die dood.  Vir almal wat hulle bekeer en heelhartig op Hom alleen vertrou (nie op Jesus plus jou eie godsdienstige pogings nie), is daar vergifnis, lewe, en ‘n rein gewete.  “hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien… laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebreërs 9:14, 10:22).  Sonde sal jou siel uitdroog en kan nooit jou sielsdors les nie.  Net Jesus kan.  Vra Hom.

Hulp vir drank en dwelmslawe

Drugs and alcohol

20:1 Die wyn is ‘n spotter, en sterk drank ‘n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie… 21:17 Wie van vrolikheid hou, is ‘n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie…23:19 Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.  23:20 Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. 23:21 Want ‘n drinker en ‘n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra…23:29 By wie is ‘Ag!’; by wie is ‘Wee my!’; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?  23:30 By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe.  23:31 Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: 23:32 op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif uit soos ‘n basilisk.  23:33 Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek; 23:34 en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê. 23:35 Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie!  23:36 Wanneer sal ek wakker word?  Dan sal ek dit weer opnuut soek…31:1 Die woorde van Lémuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het…31:4 Die konings, o Lémuël, die konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie; 31:5 anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges.  31:6 Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan, en wyn aan die wat bitter bedroef is.  31:7 Laat hy drink en sy armoede vergeet en aan sy moeite nie meer dink nie.” (Spreuke).

Die oorsake van die probleem

Baie mense se oplossing vir drank en dwelms is soos iemand wat Peaceful Sleep spuit vir muskiete, maar nie die nes uitroei nie.  Die Bybel wil die oorsaak van die probleem uitroei en nie maar net die simptome behandel nie.  Hier is dan ‘n paar oorsake van die probleem:

  1. ‘n Gebrek aan wysheid (20:1).
  2. Hedonisme:  die soeke na plesier (21:17).  Hierdie is die tipe persoon wat van een nagklub of partytjie na die volgende gaan.
  3. ‘n Vuil hart; ‘n hart wat nie op die regte pad is nie (23:19).  Volgens Jesus kom alle sonde uit ons slegte harte uit (Markus 7:21-23).
  4. Slegte vriende (23:20).
  5. Ledigheid (23:30a).  ‘n Mens kry die idee van iemand wat die hele dag in die kroeg deurbring.  “Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.” (Jesaja 5:11).
  6. Nuuskierigheid.  Op ‘n kort video het ek gesien hoe ‘n jong man vir ‘n 12-jarige seun dwelms gee om te rook.  Toe die seun dit neem het al die jong manne hom geluk gewens.  “Hou op om my geluk te wens,” het hy gesê, “ek probeer dit net hierdie een keer.”  Almal het vir hom gelag.  Hulle het geweet dat dié wat hierdie dwelm een keer gebruik, dadelik verslaaf sou wees.  Moenie dink jy wil dit net een keer proe nie (23:30b).  Jy mag dalk net vasgevang word in die strik.
  7. Party mense drink, omdat hulle van hul sorge of armoede wil vergeet:  “Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan, en wyn aan die wat bitter bedroef is.  Laat hy drink en sy armoede vergeet en aan sy moeite nie meer dink nie.” (31:6-7).  Sommige mense wat deur moeilike tye gaan bedwelm hulleself om te kalmeer, die pyn verlig, warm te slaap, of beter te voel.

Die gevolge van die probleem

  1. Iemand wat dronk is lyk sotlik en tree so op.  Dit is nie net dat hy met ander spot nie, maar dis asof die wyn met hom spot (20:1).  Hy slinger rond en tree op soos ‘n idoot.
  2. Bakleiery.  Party veg met die vuis en slaan hulle vroue.  Ander baklei met woorde.  In 20:1 verwys ‘lawaaimaker’ presies hierna, en volgens 23:29 is ‘n bedwelmde persoon twisgierig.  Geen wonder dat hy wonde sonder oorsaak het nie.
  3. ‘n Gebrek aan selfbeheersing.  Iemand wat dronk is of dwelms gebruik strompel, raak hoog, of sukkel om te bestuur.  Die middel lei hom (20:1).  Hier is hoe jy kan weet of jy te veel gedrink het:  Is jy jouself?  Is jy snaakser of meer aggressief as gewoonlik?  Sing jy nonsens?  Voel jy meer ontspanne as gewoonlik?
  4. Jy het geen skaamte nie, maar sal ‘n groot geraas maak (20:1).  Of jy sal jou naakte ontbloot:  “Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê.” (Genesis 9:21).
  5. Armoede:  “hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie…Want ‘n drinker en ‘n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.” (21:17, 23:21).  Drank en dwelms is nie goedkoop nie.  Ek weet van iemand wat R1000 per dag aan dwelms spandeer het.  Daar is mense wat eerder hulle verdowingsmiddels sal koop as om kos en klere te koop; as om hulle huur te betaal.  Wanneer hulle besope is slaap hulle te veel.  Gevolglik werk hulle nie en het hulle ook nie geld om kos te koop nie.  Natuurlik is daar mense wat baie drink of dwelms gebruik, maar nogsteeds ryk is.  Maar uiteindelik sal hulle vir ewig arm wees in die hel (Lukas 16:19-31).
  6. In 23:29 praat Salomo van “Wee!”  Oordeel, moles, ondergang, die hel.  “Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng” (Jesaja 5:22).  Die Nuwe Testament lys “dronkenskap” as ‘n werk van die vlees en sê “dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.” (Galasiërs 5:21).
  7. Hartseer.  Dit is wat met “Ag!” bedoel word (23:29).  ‘n Man wat ek ken het alles verloor en op straat beland as gevolg van sy verslawing aan drank.  ‘n Ander se huwelik is daarmee heen deur dwelms.  Hulle het hierdie hartseer oor hulleself gebring.
  8. Siekte en pyn.  Die persone het dowwe of rooi oë, en voel babbalas of naar:  “…by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?…op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif uit soos ‘n basilisk…en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê.  Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie! (23:29, 32, 34-35).  Hierdie verse herinner my aan iets wat met my beste vriend gebeur het.  ‘n Nagadder het hom gepik.  ‘n Tyd vroeër het hy sy vinger met ‘n haelgeweer afgeskiet.  Hy sê dat die slangbyt baie erger was as die geweerskoot.  En dít is wat uiteindelik met die verslaafde sal gebeur:  die middel sal soos slanggif in sy liggaam wees.  Hy sal wees soos iemand wat seesiek word.  Hy sal by tye so naar word dat hy wens hy gaan dood.  Maar omdat hy in sy besopenheid nie enige pyn voel nie, sal hy nóg soek (soos my dogter wat by die tandarts was, geen pyn gevoel het nie, en haar lip stukkend gebyt het.  Toe die gevoel terugkom, het sy baie pyn gehad).  Die dronkaard sal bewus wees van die pyn wanneer die middel uitwerk.  Dan sal hy weet hy is geslaan.  En uiteindelik sal die newe-effekte geweldige pyn veroorsaak
  9. Die dood.  Op ‘n natuurfilm wat ek gesien het, het ‘n kobra ‘n leeuwyfie en haar welpies gepik.  Die welpies is dood en die leeu was vir ‘n week dodelik siek.  Só sal dit wees met iemand wat aan hierdie middele verslaaf is.  My vrou ken iemand wat dood is van drank en ek iemand wat dood is van dwelms.  Vir die verslaafde het dinge goed begin.  Maar dit het sleg geëindig – bitter sleg.
  10. Hallusinasie.  Jy sien dinge wat nie daar is nie.  Jou sintuie bedrieg jou.  “Jou oë sal vreemde dinge sien” (23:33a).
  11. Jy sal dinge sê wat jy berou:  “jou hart verkeerde dinge spreek” (23:33b).  Onder die invloed van sterk medikasie het een vrou verskriklike dinge vir ‘n ander gesê.  En met dwelms en alkohol is dit dieselfde.  Wat ‘n persoon sê wanneer hy dronk of bedwelmd is, wys vir jou wat regtig in sy hart is.
  12. Vergeetagtigheid.  In 23:35 kry ‘n mens die idee dat die dronk persoon nie mooi kan onthou wat gebeur het nie.  In 31:4-5 is dit duidelik dat vergeetagtigheid een van die gevolge van hierdie sonde is:  “Die konings, o Lémuël, die konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie; anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges.”  Dronkenskap neem jou verstand weg (sien Hosea 4:11).  Die drank en dwelmslaaf vergeet hoe erg sy probleem eintlik is.  Daarom doen hy dit weer.
  13. Verslawing (23:35-36).  Die persoon word geslaan, maar doen dit weer.  En weer.  En weer.  “Al stamp jy die sot in ‘n stampblok tussen graankorrels met ‘n stamper, sy sotheid sal nie van hom wyk nie.” (27:22).  Die dronkaard kan pap geslaan word.  Tog sal hy terugkeer na sy sotheid, net soos ‘n hond terugkeer na sy eie uitbraaksel (26:11).
  14. Onreg.  ‘n Dronk leier sal omkoop geld vat, of in sy bedwelmde toestand wette verander (31:4-5, Jesaja 28:7).  Verslawing beïnvloed nie net jouself nie, maar ook ander rondom jou.  By ‘n restaurant het ek gehoor hoe ‘n voorskoolse seuntjie vieslike taal gebruik.  Sy ma het omgevlieg:  “Moenie so lelik praat nie!  Waar hoor jy dit?”  “By julle,” het hy geantwoord.  “Dis nie ‘n verskoning nie,” het sy ma gesê.  Moenie so wees wanneer dit by drank en dwelms kom nie.  Stel ‘n voorbeeld.
  15. Berou.  Die koning wat dronk is verander wette (31:4-5).  Wanneer hy tot sy sinne kom, besef hy wat hy gedoen het.  Maar dan is dit te laat.  Iemand wat dronk bestuur en ‘n kind dood ry, beland in die tronk.  Dis amper soos Lot wat dronk was en sy dogters swanger gemaak het (sien Genesis 19).  Moenie onverantwoordelik wees nie.  Spyt kom altyd te laat.

Die oplossing vir die probleem

  1. Moenie tevrede wees met tweede klas plesiere nie (21:17):  “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen:  My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.”  Soek ware en blywende plesier:  “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).  Pasop vir die wêreld wat hedonisme aanmoedig; wat vir jou sê dat die een of die ander ding vreugde vir jou sal bring.  As jy alewig plesier najaag, sal jy uiteindelik ja sê vir die hoogste plesier wat die wêreld jou kan bied:  immorele seks, drank en dwelms.
  2. Wees gehoorsaam uit die hart:  “Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.” (23:19).  Toe ek in die laerskool was het my ma my gewaarsku om nie te rook as ek in die hoërskool kom nie.  Ek het nooit gerook nie.  Waarsku jou kinders:  “Die woorde van Lémuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het” (31:1).  As jy weergebore word en jou natuur verander word, sal jy weerstand kan bied.  Dit is immers uit die hart wat ons sondige begeertes en dade kom (4:23).  As jy nuwe begeertes het, sal jou dade ook verander.  Paulus se raad is:  “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” (Efesiërs 5:18).  As die Heilige Gees in jou is sal jy selfbeheersing kan toepas (Galasiërs 5:23).  Hoe kan jy weergebore word?  Deur die Woord van God; die evangelie.  Die evangelie is die goeie nuus dat God helverdiende sondaars vergewe en vir ewig sy kinders maak.  God is heilig en haat jou selfsugtige sonde van drank en dwelmverslawing.  Hy haat die sonde wat jy elke dag in jou woorde, gedagtes, en optrede doen.  Omdat jy in jou hart en uit vrye keuse ‘n sondaar is, verdien jy sy straf.  Hy het jou liefgehad en ‘n plan gemaak om jou te verlos.  In Christus het Hy aarde toe gekom en ‘n mens geword.  Hy het die wet volmaak gehoorsaam in jou plek (Hy het nooit dronk geword nie, alhoewel mense Hom daarvan beskuldig het).  Hy het die straf vir jou sonde op Homself geneem aan die kruis.  Op die derde dag het Hy opgestaan uit die dood.  Hy is gewillig en instaat om almal te red wat deur geloof na Hom toe kom.  As jy met jou hele hart vertrou op Wie Hy is en wat Hy gedoen het, sal jy gered word.  Moenie op jou werke vertrou nie (jou sonde verdoem jou al klaar).  Vertrou op Hom alleen.  Bekeer jou van jou sonde.  Hou op daarmee, haat dit en kry berou daaroor.  Vra dat die Here jou help om dit met ‘n gewillige hart te doen.  Hy sal.  Ouers:  jy het ‘n verantwoordelikheid om dit vir jou kinders te leer, sodat hulle vry kan kom uit die strik van sonde.
  3. Raak ontslae van jou slegte vriende:  “Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.” (23:20).  “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.” (13:20).  “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” (1 Korintiërs 15:33).  In eenvoudige Afrikaans sê die laasgenoemde vers:  Jy flous jouself as jy dink dat jý die uitsondering op die reël is; dat jý slegte vriende kan hê en nie beïnvloed sal word nie.  Jy sal.  Die goeie waardes wat jou ouers jou geleer het sal daarmee heen wees.
  4. Verwyder jouself van die versoeking.  Moenie soos Eva kyk hoe mooi die vrug is, en dink jy kan die versoeking weerstaan nie.  Moenie soos Mowgli van The Jungle Book in Ka (die slang) se oë kyk nie; jy sal gehipnotiseer word.  Salomo sê:  “Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie” (23:31).  My vriend het ‘n dronkaard gehelp om R4000 se drank in die bad uit te gooi.  Moenie eers verby die drankwinkel ry of na die dwelmmiddel kyk nie.  As jy sê:  “Ek sal net een slukkie neem”, mag dit te laat wees.  Die Skrif sê:  “Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.  Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” (Romeine 13:13-14).  In John Owen se bekende woorde:  “Vernietig sonde of dit sal jou vernietig.”  Jesus het gekom om verslaafdes vry te maak; om die mag van die sterkste sonde te breek:  “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak…Jesus antwoord hulle:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is…As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Johannes 8:32, 34, 36).  “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” (1 Johannes 3:8).

Verslawing: lig aan die einde van die tonnel

“Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters – omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie. Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek. Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.” (Psalm 107:10-16).

 

In Kaapstad se Goedehoop Kasteel is daar ‘n tronksel wat die donker gat genoem word.  Vyande wat nie wou praat nie is eers in ‘n ander vertrek gemartel.  Indien hulle daarna nogsteeds nie wou praat nie, is hulle vir 24 uur in die donker gat toegesluit.  Toe ek die kasteel besoek het is die deur vir minder as ‘n minuut toegemaak – dis ‘n aardige gevoel.  [a] Waar hul was.  Die Israeliete het ‘n duisternis van slawerny ondervind.  ‘n Duisternis waarin jy niks kan doen nie behalwe sit.  Spreekwoordelik was hulle in ysterkettings.  Hulle was depressief.  Hulle was in die vallei van doodskaduwee.  Dít is hoe v.10-12 dit beskryf:  “Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters – omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.”  Toe hulle in Egipte was het die verdrukking intens toegeneem (sien Eksodus 1:8-14, 2:23, 5:6-19).  Hulle was soos Simson in koperkettings sonder hare – hy kon homself nie bevry nie (Rigters 16:21).  Of soos Dawid in die vallei van doodskaduwee – ‘n plek van vrees en gevaar (Psalm 23:4).  Jeremia se houtjuk kon gebreek word – sy ysterjuk kon nie (Jeremia 28:1-17).  Israel het ‘n ysterjuk om hulle nekke gehad.  Hulle duisternis was soos die duisternis van ‘n graf; soos die kettings en duisternis van die hel self (Psalm 143:3, Matteus 22:13).

‘n Aantal jaar gelede was daar ‘n groot ongeluk buite Nelspruit wat vyf skoliere se lewens geeïs het. Een van die passasiers was nie opslag dood nie.  Hy het teen die bult uitgekruip om langs die pad hulp te soek.  In die donker van die nag kon niemand hom sien nie.  Toe iemand hom uiteindelik gekry het was dit te laat.  ‘n Kort ruk later het hy in die hospitaal gesterf.  Israel was so.  Daar was geen hulp in hulle ellende nie (v.12).

Hoekom is hulle so verdruk?  Die rede is in v.11:  “omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het”.  Soos Pilgrim’s Progress se karakters deur hulle sonde in die Kasteel van Vertwyfeling beland het, het Israel deur hulle sonde in slawerny beland.  En dit het begin kort nadat hulle ‘n nasie geword het.  In die woestyn het hulle weer en weer teen die Here gemurmureer.  God se eie getuinis is:  “Dink daaraan, vergeet nie hoe jy die Here jou God in die woestyn vertoorn het nie; van die dag af dat jy uit Egipteland uitgetrek het, totdat julle by hierdie plek gekom het, was julle wederstrewig teen die Here.” (Deuteronomium 9:7).  “Hoe dikwels was hulle wederstrewig teen Hom in die woestyn, het hulle Hom gegrief in die wildernis” (Psalm 78:40).  Toe Israel in die Beloofde Land gevestig is het hulle begin om afgode te dien.  Een profeet na ‘n ander het hulle gewaarsku om na die Here toe terug te draai.  Maar hulle wou “…al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie…geweet het nie” (Spreuke 1:25).  Saam met die dwase seun van Spreuke 5:12 sou hulle kon sê:  “…Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad”.

Is jy soos Israel?  Jy doen wat wil op die Hére se dag?  Jy is cheeky met jou ouers en steur jou nie aan hulle bevele nie?  Jy is homoseksueel en probeer jou perverse gedrag uit die Bybel regverdig?  Jy slaap saam met iemand met wie jy nie getroud is nie?  Jy kyk pornografie?  Jou groot doel in die lewe is op geld te hê en om goed te koop?  Enige ander sonde waaroor jou gewete jou ry?  God sal jou verdruk met die swaar kettings, sodat jy depressief word.  En daar sal geen hulp wees nie (v.10-12).  [Laat ek gou wees om by te voeg dat nie alle verdrukking noodwendig ‘n straf vir jou sonde is nie].

[b] Wat God gedoen het.  God het hulle verlos uit duisternis en hul kettings gebreek (v.13-14, 16) – soos Moses die kliptafels teen die berg gebreek het, soos Hiskia die afgodspilare in stukke gebreek het, soos ‘n houtskip teen ‘n rots vernietig word, soos Simson nuwe toue in ‘n japtrap breek.  God het dit deur Koning Kores van Persië gedoen, want dit is hý wat die Israeliete uit slawerny bevry het:  “So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie:  Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan.” (Jesaja 45:1-2).

Sit jy in die tronk van sonde, geboei met die kettings van verslawing?  Roep tot God (v.13a).  Moenie dwaas wees soos Koning Asa en jouself probeer uithelp nie (2 Kronieke 16:12).  As die tralies en deure van hout gemaak was, was daar hoop.  Maar jou sonde is sterker as dit:  die deure is van koper en die kettings van yster – net God kan dit stukkend slaan (v.14, 16).  Net Jesus kan jou help, sodat jy saam met die profeet kan sê:  “Wees nie bly oor my nie, o my vyandin!  Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die Here is ‘n lig vir my.” (Miga 7:8).  Jesus het gekom “om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.” (Jesaja 42:7); “om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.” (Lukas 1:79); “om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur” (Lukas 4:18).  Hy is die Lig van die wêreld (Johannes 8:12).  Deur die verkondiging van die evangelie bring Hy mense van die duisternis na die lig (Handelinge 26:18, Kolossense 1:12-13).  Deur die waarheid van sy evangelie maak Hy ons vry en verwyder Hy die ysterjuk van sonde (Matteus 11:28-30, Johannes 8:32-36).  Jou verslawing van kos, pornografie, seks, drank, dwelms, en enigiets anders is nie te groot vir Hom om te breek nie (v.16).  As Jesus jou vrygemaak het is jy nie meer ‘n slaaf van sonde nie, maar het jy ‘n nuwe meester.  Wat Paulus in Romeine 6:14 geskryf het is waar van jou:  “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”

[c] Wat hul reaksie was.  Hulle het God vir sy liefde en verlossing gedank (v.15).  En ons moet dieselfde doen.  Saam met Charles Wesley moet ons sing:

Long my imprisoned spirit lay,

fast bound in sin and nature’s night;

Thine eye diffused a quick’ning ray;

I woke, the dungeon flamed with light.

My chains fell off, my heart was free,

I rose, went forth, and followed Thee!

Moenie soos Eyore (die donkie in Whinnie-the-Pooh) wees wat net altyd die donker kant van dinge sien nie.  Sien die lig aan die einde van die tonnel.  Kyk verby jou sonde en sien die kruis.  In Edward Welch se woorde:  “for every one look at your sin, take ten looks at Christ.” (Addictions:  a banquet in the grave; P&R Publishing; PHILLIPSBURG; 2001; p.40).

Christene en sigarette

Hoekom op dees aarde ‘n artikel hieroor skryf?  Daar is twee redes.  [1] Min mense sal ‘n artikel lees oor Karl Barth se verstaan van die inspirasie van die Skrif.  ‘n Artikel met die bogenoemde titel sal baie meer lesers se aandag trek, omdat jy dalk self al hieroor gewonder het.  [2] Ek self moes dié saak in my gemoed uitmaak.  Aan die eenkant hoor ek stemme wat sê:  “Rook is nie sonde nie – daar is geen vers in die Bybel wat daarteen praat nie.”  Aan die ander kant hoor ek:  “Iemand wat rook kan nie ‘n Christen wees nie.”  Maar wat sê die Bybel regtig oor rook?

 

Jesus leer duidelik dat niks wat van buite kom jou geestelik onrein kan maak nie (Mark.7:15).  Dit is wat uit ‘n mens se hart kom wat hom onrein maak (Mark.7:21-23).  Paulus gebruik ander woorde, maar leer basies dieselfde:  “Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel.” (Tit.1:15).  Maar wat van sigarette:  kan rook wat van buite af ingeasem word iemand geestelik onrein maak?  Nee.  Die onreinheid kom uit sy hart uit.  Rook is dus nie inherent sondig nie, maar word so…

 

z      Wanneer jy jou liggaam skend.  Die sesde gebod sê jy mag nie moord pleeg nie.  Jy mag nie ander se lewens beskadig nie, en ook nie jou eie nie.  Die teer en nikotien in sigarette beskadig jou longe.  Indien jy nikotien en teer vrye sigarette (as daar so iets bestaan het) rook, is dit nie sonde nie.  Indien jy bittermin rook is dit waarskynlik nie sonde nie.

z      Wanneer jy ander beskadig.  Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  ‘n Swanger ma wat rook beskadig haar ongebore kind en kort naasteliefde.  ‘n Man wat gereeld voor sy kinders of ander rook, stel hulle gesondheid in gevaar en kort naasteliefde.

z      Wanneer dit jou baas word en jy verslaaf raak.  Die Skrif sê jy moenie ‘n slaaf wees van enigiets nie (1 Kor.6:12); nét Jesus moet jou baas wees.

z      Wanneer jy nie meer selfbeheersing uitoefen nie.  Laat sigarette jou kalm of geïrriteerd voel?  Het jy bewustelik beplan om só te voel?  Deel van die Gees se vrug is selfbeheersing (Gal.5:22-23).

z      Wanneer dit vir jou ‘n afgod word.  Waarheen wend jy jou wanneer jy stres beleef:  na Jesus of na sigarette?

z      Wanneer jy die wette van ons land breek.  God beveel in Rom.13:1-7 dat ons aan die regering moet onderwerp.  Volgens die wet mag sigarette nie aan persone onder 18 jarige ouderdom verkoop word nie.  Laerskool en hoërskool kinders wat rook sondig summier.

z      Wanneer jy ander laat struikel.  Party Christene glo om enige alkoholiese drank in te neem is sonde.  As jy voor so iemand ‘n bier te drink sal sy gewete beskadig en hom laat struikel.  Daardeur sondig jy.  Dit geld ook vir rook (sien 1 Kor.8:13).

z      Wanneer jy geld wanbestee.  Sigarette is duur.  Indien jy dan kla dat jy nie jou gesin kan voed of petrol in jou kar kan gooi nie, maar R1500 per maand aan sigarette spandeer, het ek nie veel nie simpatie met jou nie.  Word wys.

 

Die prinsiepe wat ons op rook toegepas het, geld ook vir eet, koffie drink, oefen, tuinmaak, modes, en veel meer.  Moet dan nie hiperkrities en selfregverdigend wees, sodat jy sommer uit die hand rokers verdoem nie.  Maar moet ook nie vir jouself sê:  “Waar is die hoofstuk en vers wat sê rook is verkeerd?” nie.  Meet jouself aan die Skrif en doen wat dit sê.  Moet dit nie doen omdat jy deur jou werke geregverdig wil word nie.  Doen dit eerder omdat jy God liefhet met alles in jou en jou naaste soos jouself.