‘n Waarskuwing aan gelowiges

persecuted-church

Het iemand jou al ooit in die rug gesteek? Dit is erg dat die persoon jou seergemaak het, maar wat dit erger maak is dat jy dit nie verwag het nie.  Om dan te keer dat ons omkant gevang word, het Jesus in Jh.15:18-16:4 gewaarsku dat die wêreld ons gaan haat.

 

Die wêreld se haat (15:18-21)

Ek het onlangs ‘n natuurprogram gekyk wat oor die jaarlikse ‘sardine run’ gaan. Honderde miljoene sardyne swem elke jaar van die Kaap af tot in Natal.  Naby Durban se kus wag daar vir hulle ‘n verrassing:  omtrent 5000 dolfyne, 1000 haaie, 200 000 of 300 000 malgasse (seevoëls), ‘n klomp robbe en ‘n walvis is gereed om hulle te eet.

 

Tydens die vispartytjie steur die roofdiere hulle nie aan mekaar nie. Selfs die robbe swem baie gemaklik saam met die haaie, omdat daar net een kuiergas op die spyskaart is:  sardyne.

 

En so is dit ook met die wêreld en Jesus. Die wêreld haat mekaar (Tit.3:3).  Maar wanneer dit by Jesus en sy volgelinge kom, dan staan die wêreld saam (Lk.23:12, 22:66, vgl. Hd.23:7-8).  In hulle haat vir Jesus is hulle een.

 

Die dissipels moes mekaar liefgehad het (15:17), maar die wêreld sou hulle gehaat het (15:18, 1 Jh.3:13). Hulle moes daaraan gedink het dat die wêreld vir Jesus gehaat het voordat dit hulle gehaat het (15:18).  Hulle het nie daarvan gehou dat Hy hulle sonde uitgewys het nie, en daarom het hulle Hom gehaat (7:7).

 

As die dissipels deel van die wêreld was, sou die wêreld hulle liefgehad het en na hulle geluister het (15:19, 1 Jh.4:5). Hulle het egter die dissipels gehaat, omdat Jesus hulle uit die wêreld gekies het om aan Hom te behoort (15:19, 16, 17:9, Mt.10:22, Gal.1:4).  Hulle het dit gehaat dat die dissipels nie meer soos húlle was nie (17:14, 1 Pt.4:3-4).

 

Die dissipels moes onthou het hoe Jesus in 13:16 vir hulle gesê het dat ‘n slaaf nie groter is as sy Meester nie (15:20). As die wêreld dan die Meester vervolg het, sou hulle nie teruggestaan het vir sy slawe nie (15:20, Mt.10:24-25).

 

En as hulle die Meester se Woord gehoorsaam het, sou hulle ook geluister het na die slawe wat dit verkondig (15:20, 13:20, Mt.10:40, Lk.10:16, 1 Jh.4:6).  Die wêreld sou die dissipels vir Jesus se onthalwe gehaat en vervolg het, asook omdat hulle nie die Vader geken het nie (15:21).

 

Die wêreld se sonde (15:22-25)

Die wêreld het nie ‘n verskoning gehad vir hulle haat nie (15:22-24). Deur sy lering en een-van-‘n-soort wonderwerke, het Jesus die Vader aan hulle bekend gemaak (15:22, 24, 9:32, Mt.9:33).  Dit was dan duidelik dat Hy die Messias en die Seun van God was.  As Hy hulle nie geleer het en wonderwerke gedoen het nie, sou hulle nog rede gehad het om Hom te verwerp (15:22, 24).

 

Maar nou het hulle geen verskoning gehad nie, omdat hulle die waarheid gesien en gehoor het, en nogsteeds van Hom af weggedraai het (15:22, 24, 9:41). Hulle het teen die lig gesondig, en sou dus ‘n swaarder straf ontvang het (Mt.11:22, 24, Lk.12:47-48).  In hulle haat vir Jesus het hulle ook die Vader gehaat, omdat Hy en die Vader een is (15:23, 10:30).

 

Die wêreld se haat kon egter nie die Here se verlossingsplan omvergewerp het nie. Hy het hulle haat gebruik om sy ewige raadsplan te vervul (15:25). ‘n Illustrasie sal jou help om te verstaan wat ek bedoel.[1]

 

Die wêreld is soos plat-annas (plat, slymerige paddas) in ‘n vistenk. God is die Eienaar van die vistenk.  Die plat-annas kan swem waar hulle wil.  As hulle kies om in die modder van haat op die tenk se bodem te gaan lê, dan is dit nie die Eienaar se skuld nie maar húlle s’n.  Dit is nie Hý wat hulle versoek het om Hom te haat nie (Jk.1:13).

 

Gestel die Eienaar besluit om die plat-annas van die kombuis af na die stoep toe te skuif. As die plat-annas wil, kan hulle nogsteeds in die modder van haat gaan lê.  Die Eienaar het nie met hulle besluit ingemeng nie.  Hy het egter hulle haat oorheers om sý groter besluite uit te voer.  Hulle keuse om te haat kon nie die Eienaar se ewige raadsplan ontspoor het nie.  As die Eienaar wou, kon Hy selfs die plat-annas in goudvisse verander het, sodat hulle nie meer ‘n begeerte sou hê om in die modder van haat te gaan lê nie (vgl. Paulus in Hd.9).

 

Jesus se kruisdood was deel van God se ewige raadsplan (Ef.1:11). Hy het dit reeds 1000 jaar v.C. in Ps.69:5 voorspel:  ‘Hulle het my sonder oorsaak gehaat.’ (15:25).  God het deur die wêreld se haat sy goeie plan uitgevoer, sodat sondaars gered en vergewe kon word.  Die wêreld het dit vir die slegte bedoel, maar God het dit vir die goeie bedoel (Gn.50:20).  Die plat-annas se besluit om in die modder van haat te gaan lê, kon nie die Eienaar keer om volgens sy soewereine keuse die vistenk te skuif nie.

 

Die apostels se hulp (15:26-16:4)

Sommige klein hondjies is braaf wanneer hulle by hulle eienaars is: hulle is gereed om jou op te vreet.  Maar wanneer hulle alleen is, is hulle bang.  Ander honde is klein, maar het die hart van ‘n leeu en is bang vir niks.

 

Petrus was so. Toe hy saam met Jesus in die tuin was, het hy sy swaard uitgetrek en was hy gereed om hom te verdedig.  Maar toe hy later alleen om die vuur gesit het, het hy vir Jesus verloën.  En toe gebeur daar iets wat gemaak het dat hy daarna in moeiliker omstandighede nie vir Jesus verloën het nie.  Hy het later selfs sy lewe prysgegee vir Jesus en die evangelie.  In 15:26-16:4 sien ons hoekom hy verander het.

 

Die wêreld se haat en vervolging moes nie die dissipels verhinder het om van Jesus te getuig nie. Sodra Hy weer in die hemel was sou Hy die Trooster of Gees van die waarheid – wat van die Vader af uitgaan – gestuur het om hulle te help (15:26-27, 14:16-17, 26).  Die Gees sou hulle bekragtig het om d.m.v. wonders en tekens van Jesus se opstanding te getuig (15:26-27, Hd.1:8, 4:33, Heb.2:3-4).  Hulle getuienis sou gewys het dat Hy die Messias en die Seun van God is.

 

Hoekom het Jesus spesifiek die apostels gekies om in die Gees se krag van Hom te getuig?  Dit is omdat hulle van die begin af saam met Hom was (15:27, Hd.1:21-22, 10:40-41).  Hulle het ‘n eerstehandse ervaring van sy Persoon, lering en wonderwerke gehad, en daarom kon hulle beter as enigiemand anders van Hom getuig het.

 

Die Gees sou hulle hierin gehelp het. Jesus het dit vooraf vir hulle gesê, sodat hulle nie sou wegval tydens die vervolging nie (16:1).  In hulle haat vir Jesus sou die wêreld (in hierdie geval, die Jode) hulle uit die sinagoges uit verban het (16:2, 9:22, 34, 12:42).  Die Jode was van mening dat die moord op Christene vir die Here aanneemlik is (16:2, Hd.22:3-4, Gal.1:13-14, Fil.3:6, vgl. Jes.66:5).[2]  Dít het hulle in onkunde gedoen, omdat hulle nie vir Jesus of die Vader geken het nie (16:3, 8:19, Hd.3:17, 1 Tm.1:13).

 

Jesus het die dissipels daaraan herinner dat Hy hierdie dinge vooraf vir hulle gesê het om hulle te waarsku (16:4, 1). Hy wou hulle voorberei het, sodat hulle nie omkant gevang word nie.  Die rede hoekom Hy hulle nie vroeër gewaarsku het nie, was omdat Hy by hulle was om hulle te beskerm (16:4).  Toe Hy by hulle was, was dit ‘n tyd om bly te wees en nie ‘n tyd om te treur nie (Mt.9:15).  Hulle was ook nog nie gereed vir die vervolging nie.  Jesus moes eers die Gees gestuur het om hulle te versterk, sodat hulle dit kon verduur (16:7).

 

Jesus se les in hierdie gedeelte is duidelik: as jy die Here met erns wil dien, sal jy vervolg word (15:20, 2 Tm.3:12).  Sal die wêreld jou Meester vervolg en nie vir jou nie (15:20)?  Sal die Meester se pad met dorings besaai wees en sy slawe s’n met roosblare?

 

Partykeer wil ons hê dat die wêreld van ons moet hou. Ons wil hê hulle moet mooi dinge van ons sê, en hoop dat hulle van ons kerk en ons prediking sal hou.  Maar hulle sal nie (15:18-19).  As hulle van ons hou moet ons weet dat iets nie reg is nie, en dat ons waarskynlik op die verkeerde pad is (15:19).  Jesus het gesê:  “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.” (Lk.6:26).

 

Verder hou die wêreld nie daarvan dat jy ‘n nat vaddoek is nie. Hulle haat dit as jy nie saam met die matrieks lelike dinge met die graad 8’s se ontgroening wil doen nie.  Hulle is kwaad as jy nie saam met die res van die skool onder-die-belt liedjies by die atletiekbyeenkoms wil sing om ‘gees’ te vang nie.  Hulle kan dit nie vat dat jy so ‘oudtyds’ is om te glo dat seks net vir die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou bedoel is nie.

 

Hulle skuif jou uit omdat jy nie saam met hulle by die jaareindfunksie dronk word nie. Hulle sê dat jy wetties is as jy nie saam met hulle films wil kyk waarin mense die Here se Naam vloek of saam in die bed spring nie.  Hulle sê dat jy fanaties is omdat jy nie daarvan hou om op ‘n Sondagoggend en -aand weg te bly van die kerk af nie.  Hulle haat jou omdat jou heilige lewe die donker kolle in hulle harte uitwys, en dit hulle skuldig laat voel.

 

In al hierdie dinge moet jy onthou dat die Here ‘n groter en wyser plan het, en dat Hy hierdie mense se bose planne sal oorheers en dit vir jou voordeel sal uitwerk (15:25, Rm.8:28). Onthou ook dat Hy die Heilige Gees gestuur het om jou by te staan (15:26).  Om dit te waardeer sal dit help as jy ‘n Bybelse verstaan het van wie hierdie Gees is.

 

Volgens Jesus het die Gees van die Vader af uitgegaan (15:26). Uit Jh.14-16 leer ons ook dat die Vader en die Seun Hom gestuur het (14:26, 15:26, 16:7).  Daarom word Hy nie net die Gees van God genoem nie, maar ook die Gees van Jesus, die Gees van Christus en die Gees van die Seun (Hd.16:7, Rm.8:9, Gal.4:6, Fil.1:19, 1 Pt.1:11).  As Hy van die Vader en die Seun af uitgaan het, bevestig dit dat Hy een is met die Vader en die Seun (Mt.28:19).

 

Soos die Vader en die Seun, is die Heilige Gees ewig (Heb.9:14), alwetend (1 Kor.2:10-11), alomteenwoordig (Ps.139:7-8) en ook die Skepper (Gn.1:2, Job 33:4, Ps.104:30). Hy is nie ‘n abstrakte krag soos wat die Jehova’s Getuies sê nie, maar is volkome God (Hd.5:3-4, 2 Kor.3:17-18).

 

Maar sy eenheid met die Vader en die Seun beteken nie dat Hy nie ‘n aparte Persoon is nie. Die feit dat Hy van die Vader af uitgaan het, en dat die Seun Hom gestuur het (15:26) wys dat Hy ‘n unieke Persoon is wat kan dink, voel, praat, getuig, troos, help, bid, onderrig gee en gawes uitdeel (14:16, 26, 15:26, 16:13, Hd.8:29, Rm.8:16, 26-27, 1 Kor.2:10-11, 12:11, Ef.4:30).

 

Ons glo dan dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees een God is (Dt.6:4, Jes.45:5-6) in drie Persone (Mt.3:16-17, 28:19, 2 Kor.13:13, Ef.4:4-6, 1 Pt.1:2).  En dit is hierdie Gees wat vir ewig by jou sal wees om jou te help (14:16).  Moet Hom nie verneder deur van Hom te praat asof Hy ‘n warm gevoel in jou bors is nie.  Glo in Hom, wees lief vir Hom en gehoorsaam Hom.  Aanbid en eer Hom soos wat jy dit met die Vader en die Seun doen.

 

Buiten daarvoor dat die Heilige Gees jou sal help om staande te bly, sal dit jou ook help om te onthou dat Jesus vervolging voorspel het (16:1, 4).  Hierdie les is veral belangrik as jy ‘n nuwe bekeerling is.  Moenie so naïef wees om te dink jy sal nie vervolg word nie.  Berei jouself eerder voor, sodat dit jou nie verras nie.  In die Bybel staan daar:

 

[1] “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hd.14:22).

 

[2] “ons het Timótheüs…gestuur om julle te versterk en julle te bemoedig in julle geloof, sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is. Want ook toe ons by julle was, het ons julle vooruit gesê dat ons verdruk sou word, soos dit ook gebeur het en soos julle weet.” (1 Ts.3:2-4).

 

[3] “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Pt.2:21).

 

[4] Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Pt.4:12).

 

Onthou ook asseblief dat die vervolging nie net van buite af sal kom nie, maar ook van binne af (16:2). Dit sal nie net die Moslems en Hindoes wees wat jou vervolg nie, maar ook mense wat sê dat hulle Christene is (soos wat die Rooms-Katoliekekerk in die verlede die Protestante vervolg het).  Die vervolging sal van predikante, lidmate, ouderlinge en diakens af kom.  En hulle sal dit doen, omdat hulle nie die Here ken nie (16:3).

 

Richard Wurmbrand het in Kommunistiese Romenië gebly. Hy was vir 14 jaar in die tronk en is later vrygelaat.  Kort voordat hy die land verlaat het, het hy ‘n groep van 15 seuns en dogters dieretuin toe gevat.  Hy het voor die leeus se hok gaan staan en vir hulle gesê:

 

‘Your forefathers in faith were thrown before such wild beasts for their faith. Know that you also will have to suffer.  You will not be thrown before lions, but you will have to do with men who are much worse than lions.  Decide here and now if you wish to pledge alegiance to Christ.’

 

Hy sê dat die kinders trane in hulle oë gehad het toe hulle ‘ja’ gesê het.[3]  Wat sou jý gesê het as jy daar was?  Sal jy die Here volg, al beteken dit ook dat die wêreld jou haat?

 

[1] Ek het die illustrasie aangepas en verander uit p.157 van Randy Alcorn se boek hand in Hand

[2] Mishnah Sanhedrin 9:6 aangehaal in D.A. Carson, The Gospel According to John, p.531

[3] Aangehaal in John Piper, Let the Nations Be Glad, p.79

Advertisements

‘n Oop brief aan wêreldse kerke

Fish swimming upstream

My suster en swaer was vir hulle wittebrood in Amerika. Gedurende die twee weke het hulle ‘n Baptistekerk in Seatle besoek.  Dit was die kerk se 100-jarige viering.  Voor hulle het daar twee vroue gesit.  Na ‘n rukkie het hulle gesien dat die een ‘n man is.  Hy het lang hare gehad en ‘n rok gedra.  Die vroue-predikant het in haar toespraak gesê dat dit die mense is wat gemaak het dat die kerk so suksesvol is.  In haar hele ‘preek’ het sy nie ‘n enkele woord oor die Here gesê nie.  Hierdie gemeente, soos die een in Op.2:12-17, is ‘n goeie voorbeeld van ‘n wêreldsgesinde kerk.

 

Die aanhef (v.12)

Pergamus was 80 km noord van Smirna en 25 km van die weskus van Turkye af. Vir meer as 250 jaar was dit die hoofstad van die Turkse provinsie Asië.  Dit was ook dié godsdienstige sentrum in die Ryk.  Daar was afgodstempels vir Zeus, Atena, Apollo, Asklepios, Dionisus en Aphrodite, asook vir die keisers van Rome.  Die moderne dorp Bergama is gebou oor dele van die antieke stad.

 

Jesus het hierdie brief aan die boodskapper [Gk. aggelos] of leraar van die gemeente in Pergamus gerig (v.12).  Jesus beskryf Homself as die Een wat die skerp swaard met twee snykante het (v.12).  Dit is so dat die Romeine oortreders met die swaard doodgemaak het (v.13, Rm.13:4).  Jesus sê egter dat Hy meer mag het as enige aardse owerheid, en dat Hý die ware swaard in sy skede het (v.12, 1:16).

 

Uit die res van die Skrif leer ons dat hierdie swaard die Woord is waarmee Hy die nasies sal oordeel (19:15, Jes.49:2, Ef.6:17, Heb.4:12). Sy swaard is nie maar net ‘n ornament wat mooi lyk teen iemand se sitkamer muur nie, maar een wat Hy gaan gebruik (v.16).  Wanneer Jesus sy woorde van oordeel uitspreek is dit nie leë dreigemente nie – Hy het die mag om dit uit te voer.

 

Die komplement (v.13)

Van al die gode in Pergamus was Asklepios die een wat uitgestaan het. Volgens hulle was hy die god van genesing.[1]  Sy teken was ‘n slang – die teken wat vandag nog op ambulanse gesien kan word.  Oral uit Asië het mense na hierdie tempel toe gekom om genees te word.  Hulle het gesê dat die god d.m.v. drome vir die priesters en dokters gewys het watse mense genees moet word.[2]

 

Saam met die medisyne het hulle besweringe en tower spreekwoorde gebruik.[3]  Een voorskrif het vereis dat die siek persoon op die tempel se vloer moes slaap, sodat slange oor sy liggaam kon seil en hulle genesende krag in hom kon vrylaat.[4]  Dit mag wees dat Jesus dít in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat Pergamus die troon van Satan is (v.13), omdat Satan self in 12:9 ‘die ou slang’ genoem word.

 

In Pergamus was daar ook ‘n altaar wat soos ‘n troon gelyk het. Die 13 meter hoë altaar was opgerig vir Zeus, en was een van die wonders van die antieke wêreld.  Dit mag ook wees dat Jesus hieraan gedink het toe Hy Pergamus die troon van Satan genoem het (v.13).

 

Onthou ook dat die mense van Pergamus die keiser aanbid het.[5]  Volgens Jesus is dit Satan wat deur die keiser regeer het.  Daarom het Hy die stad ‘n troon van Satan genoem (v.13).  Om v.13 te verstaan, sal dit help as ons hierdie agtergrond in ons gedagtes het.

 

Jesus het geweet dat sy kinders in ‘n stad woon waar die duiwel oor mense se harte regeer, en hulle soos zombies agter hom aanloop (v.13, Joh.12:31, 14:30, 2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19). Tog het die gelowiges nie toegegee aan die druk om ander gode te aanbid nie (v.13).  Selfs toe die getroue Antipas daar doodgemaak is, het hulle aan hulle geloof in die Here vasgehou, en Hom nie verloën nie (v.13).  Antipas het rotsvas gestaan en geweier om die keiser en die afgode te aanbid.  Volgens oorlewering is Antipas in ‘n smeltende koper bul gegooi.[6]  As gevolg van sy manmoedige voorbeeld, het die res van die gelowiges vasgestaan (v.13).

 

Die vermaning (v.14-17a)

‘n Sportman wat altyd dieselfde taktiek volg, word in sy eie net gevang. As ‘n tennisspeler bv. altyd ‘n sekere hou speel, gaan sy of haar opponent dit agterkom.  In v.13 het die duiwel gesien dat sy vervolgingstaktiek om die gemeente van balans af te bring, nie gewerk het nie.  Hy het toe ‘n ander kaart gespeel.  In v.14-15 sien ons hoe hy dinge van binne af probeer versuur.

 

Alhoewel die gelowiges getrou gebly het in vervolging (v.13), was daar dinge wat nie reg was in die gemeente nie (v.14). Soos party van hulle aan die Naam van Jesus vasgehou het, het ander aan verkeerde lering vasgehou (v.14-15).  Soos die vals leraars in 2 Pt.2:15 het hulle Bileam se lering aangehang (v.14).

 

Koning Balak van Moab het vir Bileam gehuur om die Israeliete te vervloek. Die Here het nie vir Bileam toegelaat om dit te doen nie, en het die vloek in ‘n seën verander (Nm.22-24).  Sy lus vir koning Balak se omkoopgeld het gemaak dat hy ‘n ander plan uitgedink het om die Israeliete te laat val (v.14, Jud.11).  Hy het vir die Midianitiese vroue gesê om die Israelitiese mans seksueel te verlei.  Hulle het ‘n fees gehou vir Baäl van Peor en dit dáár gedoen (v.14, Nm.25, 31:8, 15-16).  Die Here het ‘n plaag gestuur waarin Hy 24 000 Israeliete doodgemaak het.

 

Soos die Israeliete in die woestyn, het sommige van die gelowiges in Pergamus afgodspraktyke beoefen: hulle het vleis geëet wat aan die afgode geoffer is, en met die tempel prostitute geslaap (v.14).  Hulle redenasie het seker so iets geklink:  ‘Dit is nie asof ons die keiser of enige van die ander gode aanbid nie.  Ons woon nou wel die afgodsfeeste by, maar as ons mense vir die Here wil wen, moet ons wees waar húlle is.  Ons weet mos dat ‘n afgod niks is nie, en dus is dit nie verkeerd as ons vleis eet wat aan hulle geoffer is nie.’

 

Op dié manier het hulle die Here se Naam deur die modder gesleep, en vir die ongelowiges gemengde boodskappe deurgestuur: ‘Dit is nie reg om ander gode te aanbid nie (v.13), maar dit is ook nie verkeerd om dinge te doen wat daarmee geassosieer word nie (v.14).’

 

Paulus het in 1 Kor.8, 10 gesê dat hulle hierdie vleis in die slaghuis kan koop en by hulle huise kan eet.  Hulle moes egter nie die feeste bygewoon het en daardeur die nuwe bekeerlinge se gewetens beskadig het nie.  Hulle moes ook nie ‘n slegte getuienis vir die wêreld gewees het nie, en dus moes hulle seksuele losbandigheid soos die pes vermy het (Hd.15:29).

 

Die gelowiges in Efese het die lering van die Nikolaïete gehaat (v.6), terwyl dié in Pergamus daarmee gespeel het (v.15). Dit lyk of die leer van Bileam en die leer van die Nikolaïete min of meer dieselfde was (v.14-15).  Die soortgelyke betekenis van Bileam en Nikolaus se name laat dit so lyk.

 

Jesus het vir die skuldiges gesê om hulle te bekeer (v.16). Hulle moes opgehou het om die feeste by te woon.  As hulle dit nie gedoen het nie, sou Jesus gou na hulle toe gekom het om hulle te oordeel (v.16, 1:1, 3, 22:7, 12).  Hulle het nie baie tyd gehad om hulle te bekeer nie, en moes dit gou doen (v.16).  Indien nie, sou Jesus gekom het om met die swaard van sy mond oorlog te maak teen hulle (v.16).  Voordat Hy teen die nasies oorlog voer (19:15), sou Hy dit teen sy kerk gevoer het (v.16)!  Die oordeel moet begin by die huis van God (1 Pt.4:17).

 

Soos wat Hy vir Bileam met die swaard getref het (Jos.13:22, Nm.31:8, 22:23, 31-33), sou Hy die gelowiges in Pergamus met die swaard getref het (v.16). Hy sou nie net woorde van oordeel teen hulle gepraat het nie, maar sy oordeel uitgevoer het om hulle dood te maak.  Dié wie se geestelike ore oop was, moes die Gees se waarskuwing ter harte geneem het (v.17).

 

Die belofte (v.17b)

Die idee van ‘n Olimpiese Spele kom van die Grieke af. Die Romeine het in hulle voetspore gevolg.  Pergamum het ook ‘n spele gehad.  Die oorwinnaar in elke item het ‘n wit klippie gekry.  Die klippie was ‘n ‘toegangskaartjie’ om die oorwinnaarsfees by te woon.

 

In die Romeinse hofsisteem het dié wat skuldig bevind is ‘n swart klippie gekry, terwyl dié wat onskuldig was ‘n wit klippie gekry het. Dit is nie onmoontlik dat dít in Jesus se gedagtes was toe Hy in v.17 ‘n wit klippie aan die oorwinnaars belowe het nie.

 

Dié wat nie oorwin het nie sou geoordeel word (v.16), terwyl dié wat oorwin het beloon sou word (v.17). Hulle moes oorwin het oor die vals lering van Bileam en die Nikolaïete, asook oor die wêreld se druk om afgode te aanbid (v.17).  Die oorwinnaars sou nie net ‘n wit klippie nie, maar ook die verborge manna gekry het (v.17).

 

Toe Israel deur die woestyn getrek het, moes hulle 2.2 liter manna in ‘n goue kruik in die ark gebêre het (Eks.16:32-36, Heb.9:4). Volgens die Jode sou die Messias by sy koms vir hulle van hierdie manna gegee het.[7]  In v.17 belowe die Here hierdie manna aan sy getroue volgelinge (v.17, 13).  Hy self is die verborge manna wat uit die hemel uit neergedaal het om ons siele te versadig (Jh.6:32-35).

 

Deur ‘n wit klippie te belowe sê Jesus dat Hy vir die oorwinnaars ‘n ‘toegangskaartjie’ sal gee om die ware oorwinnaarsfees in die hemel by te woon. Hy sê ook dat die Romeinse howe hulle skuldig bevind het omdat hulle geweier het om die keiser te aanbid, maar dat Hy hulle onskuldig bevind.  Daarom gee Hy aan hulle ‘n wit klippie.

 

Op elke gelowige se klippie sou daar ‘n geheime en nuwe naam gewees het (v.17). Dit blyk dat hierdie naam Jesus se nuwe naam was (3:12, 19:12-13, 16).  Soos wat ‘n vrou haar man se naam aanneem, sal ons ons Bruidegom se nuwe Naam aanneem (Jes.62:2, 4-5).  ‘n Nuwe naam wys ook dat ons nuwe mense met ‘n nuwe karakter is (Abram word Abraham, Jakob word Israel, Simon word Petrus).

 

Moenie die Pergamus-gemeente se slegte voorbeeld volg om soos die wêreld te wees nie. Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God (v.16, Jk.4:4).  Iemand wat die wêreld liefhet, kan nie intieme gemeenskap met Jesus geniet nie (2 Kor.6:14-18).  Moet dan nie jou aandag en liefde tussen God en die wêreld verdeel nie.  Sal jy ‘n wêreld liefhê wat jou Here haat (Jh.7:7)?  Sal jy ewige dinge prysgee vir iets wat eendag vernietig gaan word (1 Jh.2:17)?

 

Om wêreldsgesindheid teë te staan, moet ons eers weet wat dit beteken. In ‘n wêreldsgesinde kerk kan almal leef soos hulle wil – daar sal nie tug toegepas word nie (v.16, 1 Kor.5:1-13).  Volgens hulle is dit liefdeloos om mense te dissiplineer (ek wonder of hulle dink dat dit vir die oortreder liefdeloos was om sy vrou te slaan, of om iemand anders se vrou by hom af te vat?).

 

In ‘n wêreldsgesinde kerk baklei mense met mekaar en is hulle verdeeld. Hulle praat nie hulle verskille uit nie, maar daag mekaar voor die hof (1 Kor.3:3-4, 6:1-8).  In sulke kerke is daar gedurig probleme met lidmate wat immoreel is (v.14, 1 Kor.6:12-20).  Soos die wêreld sê hulle:  ‘Dit is my liggaam, en ek kan daarmee doen wat ek wil.’  Hulle dink nie daaraan dat Jesus ons liggame geskep en verlos het nie, en dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Hom (Rm.12:1, 1 Kor.6:19-20).  Mense wat dít vergeet gee nie om dat hulle te veel drink, of dat hulle ongetroud is en in ‘n seksuele verhouding saam met iemand bly nie.  Selfs die leiers sien dit oor, want ‘hulle is mos nie meer kinders nie.’

 

Wêreldsgesinde kerke se lidmate leef om geld te maak. Hulle is materialisties.  Die lidmate ry duur karre en bly in luukse huise, maar die kerk sukkel om kop bo water te hou.  Die probleem is nie dat hierdie mense baie geld het nie, maar dat hulle niks of bittermin daarvan vir die Here gee.  Hulle gebruik dit om hulle lewens lekkerder te maak.  Hulle dink glad nie aan die hemel nie, en leef asof hulle vir altyd hier gaan wees.

 

Soos die wêreld, dink wêreldsgesinde kerke dat hulle wyser is as die Bybel. Die kultuur en nie die Bybel nie, bepaal hoe hulle lewe (v.14-15, Kol.2:8).  ‘Die wetenskap en sielkunde het vir ons dinge kom leer wat mense in die Bybelse tyd nie geweet het nie.  Ons kan nie meer sê dat die man die hoof is van sy huis nie.  Dit was ‘n chauvinistiese onderdrukking wat in Paulus se tyd gegeld het.  Ons kan ook nie saam met 1 Tm.2:12 sê dat vroue nie predikante mag wees nie – tye het verander.  Ons weet ook dat gay mense so gebore is, en dat Moses en Paulus verkeerd was om te sê dit is sonde.  Ons kan ook nie meer Gn.1-3 as geskiedenis aanvaar nie, omdat evolusie vir ons gewys het dat dinge anders gebeur het.  Sielkunde het vir ons geleer dat ‘n pakslae kinders se selfbeeld krenk.  Daar is beter maniere om kinders op te voed.’

 

Wêreldsgesinde kerke roem oor hulleself (1 Jh.2:16). ‘n Man het eenkeer by ons huis vir my vriend gevra:  ‘Hoeveel studente het julle teologiese kollege?’  My vriend het gesê:  ‘Vyf.’  Die man het gelag en gesê:  ‘Ons het 400!’  ‘n Predikant het vir wyle dr. Martin Holdt gevra:  ‘Hoeveel lidmate het julle?’  Volgens dr. Martin was hulle 300 lidmate.  ‘Net 300?  Ons is 2000,’ het die predikant met trots gesê.  ‘n Predikant het my kom sien met die doel om ons kerkgebou te huur.  Hy het my oor ons weeklikse ‘aktiwiteite’ gevra.  Ek het gesê dat ons twee eredienste, twee Bybelstudies en twee bidure het.  Hy het begin roem oor hoeveel ‘aktiwiteite’ húlle in die week het.

 

Hoe kan jy hierdie wêreldsgesindheid oorkom?

 

[1] Wees soos salms wat teen die stroom op swem. Moenie toelaat dat die wêreld jou soos deeg of loot in hulle gietvorm druk nie, maar vul jou gedagtes met die Bybel sodat jy anders as hulle dink (v.13, Rm.12:2).  Lees die koerant en luister na die nuus deur die filter van die Bybel.  Pasop dat hulle nie jou Bybelse wêreldbeskouing met hulle filosofieë inkleur nie.

 

[2] As die kruis van Jesus ‘n sentrale plek in jou lewe en gedagtes inneem, sal jy vir die wêreld sterf en hulle vir jou (Gal.6:14). In jou eie krag kan jy nie vir die wêreld ‘nee’ kan sê nie.  As jy egter in geloof na die Here kyk om jou te help, sal jy die wêreld oorwin.  Johannes het mos gesê:  “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.  Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Jh.5:4-5).

 

[3] Ons moet ons dadelik van verkeerde lering en praktyke bekeer (v.16, 14-15). Moenie uitstel nie, maar doen dit gou (v.16, Ps.119:60, 2 Kor.6:2, Heb.3:13, 15).  Wie weet of dit nie miskien jou laaste kans is nie?  Dalk gaan die Here ná vandag vir jou die streep trek en gou kom om jou te oordeel (v.16)?  Moet asseblief nie dink die Here speel nie:  ‘I will come’ (v.16, ESV).

 

[4] Die feit dat jy sekere dinge reg doen (v.13) verskoon nie die dinge wat verkeerd is nie (v.14-15).  Bekeer jou van die dinge wat verkeerd is.  Kry weer ‘n liefde vir Jesus, die evangelie van sy kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood, en ‘n heilige lewe van toewyding en gehoorsaamheid.

 

[5] Is jy in ‘n wêreldsgesinde kerk of omgewing waar jy nie kan uit nie? Bly getrou aan die Here – Hy weet dat jy in so ‘n situasie is (v.14).  Hy sal jou help en beloon; byt net vas (v.17).

 

[6] Dink aan die beloning (v.17). Op die laaste Dag sal jy nie spyt wees dat jy getrou gebly het, en nie toegelaat het dat die wêreld jou besmet nie (Jk.1:27).

 

Verlede jaar se se besluit oor gay huwelike in die NG-Kerk was maar net die kersie op die koek, die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het. Voor hierdie besluit het die NG-Kerk stelselmatig haar deure vir die wêreld begin oopmaak.  Omdat die wêreld jare gelede ‘n voet in die deur gekry het, was dit maklik om die deur oop te forseer en dit uiteindelik van sy skaniere af te haal.

 

Om te verhoed dat dieselfde met ons gebeur, moet ons seker maak dat ons die deur nie eers ‘n skrefie oopmaak nie. Dit beteken nie dat ons die wêreld moet ignoreer nie.  Volgens die Bybel moet ons soos ligte in die wêreld skyn, sodat ons mense vir die Here kan wen.  Maar ons gaan dit nie regkry as ons soos die wêreld is nie.

 

[1] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Pergamos

[2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Pergamos

[3] Fausset, Ibid

[4] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, verduidelikende nota op Op.2:13

[5] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, p.420

[6] MacArthur, Ibid, Op.2:13 en Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.67

[7] G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.446

‘n Oop brief aan die vervolgde kerk

Bible in chain

Dalk is dit vir jou ‘n versoeking om hierdie preek oor te slaan, en om jou ore daarvoor toe te druk. Vervolging is nie regtig iets wat jou belangstelling prikkel nie, omdat dit net in Noord-Korea, Saudi-Arabië en Sirië gebeur.  Ek wil by jou pleit om nie hierdie preek oor te slaan nie, en om nie gemaklik te voel omdat ons nie regtig vervolging beleef nie.  Weet asseblief dat die vryheid wat jy nou ervaar gebou is op die bloed van mense wat vervolg is vir die evangelie.  Hou ook in gedagte dat Suid-Afrika by die dag besig is om onder te gaan.  Dit mag dalk in die toekoms vervolging beteken vir Christene.  Spits daarom jou ore vir Jesus se brief in Op.2:8-11.

 

Jesus se troos in vervolging (v.8-9)

Smirna was aan die weskus van Turkye, 56 km noord-wes van Efese. Dit was een van die grootste stede in Asië.  Omdat dit die provinsie se mooiste stad was, het dit die bynaam ‘die Pragtige’ gekry.  Dit het breë geplaveide strate gehad, pragtige geboue, en was bekend vir sy mediese en wetenskap sentrum.  Toe Johannes sy brief geskryf het, het die stad al vir meer as 1000 jaar bestaan.[1]  Smirna is in 580 v.C. verwoes, en eers 300 jaar later (290 v.C.) deur Alexander die Grote herbou.[2]

 

Die mense van Smirna het geglo dat hulle wyngod, Dionisus of Bacchus, doodgemaak is en weer lewendig geword het. Volgens hulle was Dionisus ‘n god-mens wat gedurende die winter maande gesterf het wanneer die wynvate in die wynkelders gebêre is.  Wanneer die vate dan in die lente oopgemaak is, het hy uit die dood uit opgestaan.[3]

 

Smirna bestaan vandag nog as Izmir, en is naas Istanbul en Ankara die grootste stad in Turkye. Van die sewe stede in Op.2-3, is dit net Smirna wat nog bestaan.  Sover my kennis strek is daar vandag nog evangeliese Christene in die stad.

 

Hierdie brief word aan die boodskapper [Gk. aggelos] of leraar van die gemeente in Smirna gerig (v.8).  Jesus het niks negatief vir hierdie gemeente te sê gehad nie (vgl. 3:7-13).  Hy het Homself voorgestel as die Eerste en die Laaste, die Een wat dood was en weer opgewek is (v.8, 1:17-18, Jes.44:6).  Jesus, nie Dionisus nie, is die ware God-mens wat dood was en weer lewend geword het.  Net soos die stad, het Hy uit die stof uit opgestaan.  Die gelowiges self sou weer gelewe het nadat hulle doodgemaak is (v.10).

 

Jesus het geweet dat hulle verdruk word (v.9, 1:9). Omdat Hý verdruk was sou sy volgelinge verdruk word (v.8-9, 1 Pt.2:21, Jh.16:33).  God se kinders moet deur baie verdrukkinge die Koninkryk ingaan (Hd.14:22).  En tog kan geen verdrukking ons van God se liefde skei nie (Rm.8:35).

 

Jesus het ook geweet dat hulle arm is (v.9). Die Griekse woord [ptōcheia] dui aan dat hulle brandarm was.[4]  Die feit dat hulle in so ‘n ryk stad arm was, wys waarskynlik dat hulle ekonomies benadeel is omdat hulle Christene was.[5]  Maar volgens v.9 het hulle ‘n geestelike rykdom besit (v.9, Jk.2:5, Lk.6:20, 12:32-33, 1 Kor.3:21-23, 2 Kor.6:10, Ef.1:3, 1 Tm.6:18, Heb.10:34, 11:26).  Sonder Jesus is selfs die rykste mense op aarde arm (3:17-18).

 

Jesus het verder geweet dat die Jode teen hulle laster (v.9). Geen stad in Turkye het so ‘n groot Joodse bevolking gehad soos Smirna nie.[6]  Hulle was baie vyandig teenoor die Christene.  Buiten vir v.9, sê Ignatius van Antiochië dit ook in sy brief aan die gemeente in Smirna.[7]

 

Die Jode se haat het sterk deurgekom toe een van die gemeente se leiers in 155 n.C. verbrand is. Toe Polikarpus op die brandstapel gelê is, het die Jode hulle eie Sabbatswette oortree om hout aan te dra.[8]  As gevolg van hierdie haat het Jesus gesê dat hulle nie Jode is nie, maar ‘n sinagoge van Satan (v.9, 3:9).  Hulle was nie God se volk of die nageslag van Abraham nie, maar kinders van die duiwel (Jh.8:44, Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 29, 4:26, 28, 6:16, Tit.2:14, 1 Pt.2:9).

 

Jesus se beheer in vervolging (v.10a-b)

Ek onthou hoe ‘n tannie in ons kerk altyd gesê het: ‘God het goed geweet om ons nie in die toekoms te laat sien nie, want anders sou ons onsself dood geworry het.’  Natuurlik steek daar ‘n groot mate van waarheid daarin.  Maar in ‘n ander mate is dit ook soms ‘n vertroosting om te weet wat in die toekoms gaan gebeur.  Dit is erg om te weet dat jy binnekort in die tronk gegooi gaan word, maar dit is ook ‘n troos om te weet dat dit net vir tien dae sal aanhou (v.10).

 

Toe ons verledejaar in die Kaap was, het ons oppad terug in Philippolis se ou tronk geslaap. Teen die mure is daar strepies wat vir jou ‘n idee gee hoe die gevangenes die dae voor hulle vrylating afgetel het.  Net so sou dit die gelowiges in Smirna gehelp het om die lyding te verduur as hulle geweet het:  ‘Daar is nog net ses dae oor… vyf dae… vier dae… ens.’  Hulle sou vertroos gewees het om te weet dat Jesus in beheer was van hulle lyding.

 

Die verdrukking van v.9 sou erger geword het (v.10). Die duiwel het waarskynlik deur die sinagoge van Satan (die Jode) die Christene in die tronk laat beland (v.9-10).  Dit was die Jode wat hulle voor die hof gesleep het om hulle by die Romeinse owerhede aan te kla.[9]

 

Paulus skryf hoe die Christene in Judea deur die Jode vervolg is, “wat ook die Here Jesus en hulle eie profete gedood en ons vervolg het en God nie behaag nie en teen alle mense gekant is, deurdat hulle ons verhinder om tot die heidene te spreek dat hulle gered kan word, sodat hulle die maat van hulle sondes gedurig vol kan maak. Maar die toorn het oor hulle gekom tot die einde toe.” (1 Ts.2:15-16).

 

Die feit dat Jesus die vervolging voorspel het, wys dat Hy, en nie die Jode, die Romeine of die duiwel nie, in beheer was (v.10). Die feit dat Hy gesê het dit sal vir tien dae aanhou, wys dat Hý in beheer was (v.10).  Die feit dat Hy dit as ‘n toets vir hulle geloof gestuur het, wys dat Hý in beheer was (v.10).  Die duiwel het toestemming nodig gehad om hulle te vervolg.  Sonder Jesus kon hy nie ‘n vinger verroer het nie (v.10, Job 1:12, 2:6, Lk.22:31, 1 Jh.5:18).

 

Omdat Jesus dan in beheer was, was dit onnodig om bang te wees (v.10). Jesus sou die verdrukking kortgeknip het, sodat dit nie vir ‘n minuut langer as tien dae aangehou het nie (v.10, Mt.24:21-22, vgl. Dn.1:12, 14).  Die verdrukking sou kort maar intens gewees het.  Hulle moes vasgebyt het, en nie aan die druk toegegee het om Jesus se Naam te verloën nie.

 

Jesus se belofte in vervolging (v.10c-11)

Sal jy bereid wees dat iemand jou tone met ‘n skerp mes afsny? Ek twyfel.  Sal jy bereid wees dat hulle dit onder verdowing doen?  Ook nie.  Wat as die dokter vir jou sê dat jy aggressiewe gangrene in jou tone het?  Wat as hy vir jou sê:  ‘As ons dit nie afsit nie, sal dit verprei.  Later sal ons jou voete moet afsit, en daarna jou bene.  As jy dit nogsteeds los kan jy jou lewe verloor’?  Omdat jy jou lewe wil spaar, sal jy bereid wees om jou tone te verloor.

 

En so is dit met jou siel. Sal jy bereid wees om in die tronk te sit en om jou lewe te verloor?  Natuurlik nie.  Maar wat as Jesus vir jou sê:  ‘As jy aan My getrou bly en My nie verloën nie, sal jy die ewige lewe hê.  As jy My verloën sal jy vir ewig hel toe gaan’?  Ek is seker dat die ewige lewe en die ewige dood swaarder weeg as die lewe en dood wat jy op die aarde het.  Dit is presies die punt wat Jesus in v.10c-11 wil maak.

 

Die gelowiges moes getrou gebly het tot die dood toe (v.10). Ja, sommige van hulle sou na tien dae in die tronk tereggestel word.  In sy inskrywing onder Smirna sê A.R. Fausset:  ‘many Christians perished by wild beasts or at the stake because they refused to throw incense into the fire to sacrifice to the genius of the emperor.’[10] Die gelowiges moes nie vir die nabye toekoms gelewe het nie, maar vir hulle ewige beloning in die hemel (v.10).

 

Smirna was lojaal aan Rome (die hoofstad van die Ryk). Reeds in 195 v.C. het hulle ‘n tempel vir die godin Roma gebou.[11]  In 23 n.C. het hulle ‘n tempel ter ere van keiser Tiberius gebou.  Die getrouheid van die mense van Smirna het ‘n welbekende spreekwoord geword.[12]  Jesus sê in v.10 dat die gelowiges net so aan Hom getrou moes wees.  As hulle getrou gebly het, sou Hy aan hulle die kroon van die lewe gegee het (Jk.1:12).

 

Ek dink nie dat Jesus hier na ‘n letterlike kroon verwys nie, maar na ‘n figuurlike een soos in Ps.103:4. Soos wat atlete in die spele, en die aanbidders van Cybele in hulle godsdienstige rituele ‘n blarekrans gedra het, sou die gelowiges ‘n kroon van die lewe ontvang het (v.10).[13]  Jesus wou natuurlik gewys het dat húlle die ware oorwinnaars is, en dat húlle die ware God aanbid.

 

Die Griekse teks praat letterlik van ‘die kroon wat die lewe is’. Jesus sou die ewige lewe gegee het aan dié wat tot die einde toe volhard het en nie hulle lewens liewer gehad het as vir Hom nie (v.10, 12:11, Mt.10:22).

 

Dié wie se geestelike ore oopgemaak is (die gelowiges), moes luister wat die Gees deur Johannes vir die gemeentes gesê het (v.11). Sy boodskap was dít:  “Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.” (v.11).  Ten spyte van hulle armoede en vervolging moes die gelowiges aan die Here vasgehou het en die wêreld oorwin het (1 Jh.5:4-5).  Dié wat dit gedoen het sou nie skade gely het deur die tweede dood – die hel – nie (v.11, 20:14, 21:8).

 

Moenie Jesus se brief aan die vervolgde kerk in Smirna ignoreer, net omdat jy in gemak lewe en dit vir jou lyk of die vervolging ver weg is nie. Dalk is die vervolging nader as wat jy dink.  Jacob Zuma het twee jaar gelede gesê dat die probleme in ons land die Christene se skuld is.  As jy jou nie nóú voorneem om gereed te kry nie, sal jy die Here verloën wanneer die vervolging jou soos ‘n rower oorval.  Onthou dat Jesus gesê het:  “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.  Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Mt.10:32-33).

 

Sorg dat jy regtig die Here ken, want anders sal jy Hom in die hitte van die stryd verloën. Maak ook seker dat jy nie bang is om op te staan vir sy Naam nie.  As jy Hom in kleiner situasies verloën, sal jy dit in groter situasies ook doen.  Bid dan vir ‘n vreeslose dapperheid om jou mond oop te maak, en om nie bang te wees om die evangelie met mense te deel nie.  Moenie skaam wees wanneer jy langs ‘n Christen staan wat openlik van Jesus getuig nie.  Moenie wens hy wil stilbly of probeer om die onderwerp te verander, omdat jy nie in die moeilikheid wil kom of gespot wil word nie.

 

Begin deur ‘n traktaatjie te gee as jy bang is. Bid dat mense eerste met jóú sal praat en vrae sal vra.  Wees gereed om ‘n antwoord te gee (1 Pt.3:15), of sê vir hulle dat jy sal uitvind as jy nie weet nie.  As jy die ys eers gebreek het, sal dit in die vervolg makliker wees.

 

Indien jy versoek word om nie vir sy Naam op te staan nie, moet jy die belofte in v.10c-11 onthou. Is dit die moeite werd om mense se fronse vry te spring en jouself vas te loop in God s’n?  Is dit die moeite werd om hel toe te gaan, omdat jy mense se glimlag verkies bo God s’n (v.11, Op.21:8)?  Na alle waarskynlikheid sal nie een van ons doodgemaak word vir die evangelie nie.  Maar vra vir jouself die vraag:  is dit beter om vir die evangelie te sterf en vir ewig te lewe, of om ‘n bietjie langer te lewe en hel toe te gaan? Jesus het gesê:  “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Mt.10:28).

 

Dink ook aan die geestelike rykdom wat jy in die hemel sal hê (v.9). As jy dít onthou kan die wêreld, die onlangse droogte, ons swak geld-eenheid, en die dood maar jou aardse rykdom van jou af wegvat.  Dit sal nie maklik wees as jy jou werk verloor omdat jy ‘n Christen is nie, maar omdat jy skatte in die hemel het sal dit vir jou moontlik wees om dit te kan dra.  Niemand kan hierdie rykdom van jou af wegvat nie (v.9).

 

Hoe kan jy dit kry? Jy moet bereid wees om alles prys te gee, want anders kan jy nie sy dissipel wees nie.  As die Here dit van jou vereis, moet jy bereid wees om jou werk, geld, huis, familie, en selfs jou lewe prys te gee om Hom te volg (Lk.14:26, 33).  Jy kan nie met enige van jou pogings of werke kom nie, maar jy moet dit as gemors beskou (Fil.3:7-8).  Jy moet jou vertroue in jou doop- en lidmaatskap sertifikaat prysgee, en op Jesus en sy kruisdood alleen vertrou.  Jy moet besef dat dit nie altyd maklik gaan wees om die Here te volg nie.  Is jy bereid om alleen te wees?  Om jou vriende te verloor?  Om jou gunsteling sonde te los?  Om dalk jou geld te verloor?  Om gespot, gehaat, en miskien selfs doodgemaak te word?

 

Ek sou as ek jy was, want eintlik is dit glad nie ‘n verlies nie maar ‘n wins. Jy is soos ‘n man wat sy vier slaapkamer huis verkoop om ‘n stuk sandgrond in die Noord-Kaap te koop.  Hy doen dit met opset, omdat hy eenkeer daar geloop het en gesien het dat die grond van diamante deurtrek is.

 

Volgens Jesus “is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.” (Mt.13:44-46).

 

Moet dan nie bekommerd wees wanneer mense jou snaaks aankyk, uitskuif, of anders behandel omdat jy ‘n Christen is nie. Moet ook nie verwag dat die Here jou gaan wegraap voordat die verdrukking kom nie.  Soos Jesus sal elke mens wat Godvresend wil lewe, vervolg en verdruk word (2 Tim.3:12).  Die Here weet egter daarvan en sal jou beloon (Mt.5:10-12).  Soms dink ons in sulke tye dat die Here van ons vergeet het, maar Hy het nie (v.9).  Onthou dat Hy self ‘n mens was, en dat Hy weet hoe jy voel (v.8-9, Heb.4:15).

 

Leer ook asseblief uit v.9-10 dat dit onnodig is om bang te wees dat jy of jou kinders in die ‘eindtyd’ deur een of ander groot verdrukking sal moet gaan. In v.9-10, 22, 3:10 sê Jesus dat die groot en wêreldwye verdrukking van 7:14 in Johannes se tyd sou plaasvind.  In Mt.24:9, 21 verwys Jesus na die groot verdrukking wat sou plaasvind terwyl daardie geslag nog gelewe het (Mt.24:34).  Verwag dat jy sal ly, maar moenie in vrees vir die toekoms lewe nie.

 

Het jy al gehoor wat kerke in die ooste en die weste van mekaar sê? Die kerke in die weste sê:  ‘Ons moet bid vir die kerke in die ooste – hulle kry swaar onder vervolging.’  Die kerke in die ooste sê:  ‘Ons moet bid vir die kerke in die weste – hulle leef gemaksugtig en weet niks van die rykdom en seën wat die Here in vervolging gee nie.’

 

As ek die Bybel reg verstaan moet ons nie uitsien na vervolging nie. Maar aan die ander kant moet ons nie in vrees lewe nie, omdat die beloning oneindig keer groter is as die lyding.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Smyrna

[2] Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.63

[3] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Smyrna en James Orr, Ibid, inskrywing onder Dionysus (Bacchus)

[4] Morris, Ibid, p.64

[5] William Hendriksen, More Than Conquerors, p.80

[6] Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, 1997 & 2013, p.97

[7] Donald Guthrie & J.A. Motyer, New Bible Commentary: Third Edition, p.1283

[8] James Orr, Ibid, Smyrna

[9] Hendriksen, Ibid, p.81

[10] Fausset, Ibid

[11] Morris, Ibid, p.63

[12] Hendriksen, Ibid, p.79

[13] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, p.418 en James Orr, Ibid, Dionysus

’n Visioen van vertroosting

John writing Revelation

Toe ek op Seminarium was het ons in een klas deur die boek Openbaring gewerk. Die dosent het die visioene aan ons verduidelik.  My vriend was opgewonde en het dit met sy meisie gedeel.  Sy was skepties en het gewonder hoekom hy so seker was dat die visioene dít beteken het.  Vir haar was Openbaring ‘n boek van vreesagtige visioene.  Min mense besef egter dat die boek eintlik ‘n visioen van vertroosting is.  Op.1:9-20 is die eerste een van hierdie visioene.

 

Die verdrukking (v.9)

Charles Spurgeon het vir meer as 20 jaar met gout en arthritis gesukkel. En tog het hy geglo dat dit God se geskenk aan hom was, omdat hy daardeur geleer het om medelye te hê met ander.  As gevolg van sy siekte het hy ook met depressie gesukkel.  Een aand het hy gepreek oor die woorde:  ‘My God, my God, waarom het U my verlaat?’  Hy het die waarheid daarvan tot in die diepte van sy siel gevoel.  Ná die diens het ‘n depressiewe man na hom toe gekom.  Die man was vertroos omdat iemand geweet het wat hy deurmaak.  Die man het uit sy depressie uit gekom.[1]

 

Spurgeon skryf: ‘I would go into the deeps a hundred times to cheer a downcast spirit:  it is good for me to have been afflicted that I might know how to speak a word in season to one that is weary.’[2]  Paulus praat in 2 Kor.1:4 van God “wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”  Dit is presies wat in Op.1:9 met Johannes gebeur het.

 

Hy was die gelowiges se broer in die Here en ‘n deelgenoot in hulle verdrukking (v.9). Soos Jesus moes ook hulle verdruk word voordat hulle in die Koninkryk kon deel (v.9, Mt.5:10, Hd.14:22).  Daar is ‘n sekere sin waarin hulle reeds in die Koninkryk gedeel het, en nie eers moes wag vir die wederkoms nie (v.9, Mk.1:15, Lk.11:20, 17:21, Kol.1:13, Heb.12:28).  Johannes het ook geduldig saam met hulle in die swaarkry volhard (v.9).  Die verdrukking het juis volharding gekweek (v.9, Jk.1:2-3, Rm.5:3).  Net dié wat volhard sal die Koninkryk ingaan en saam met Christus regeer (v.9, 3:10, Mt.10:22, 2 Tm.2:12).  Hierdie verdrukking, Koninkryk en volharding is in Jesus (v.9), sodat dié wat deur geloof met Hom verenig is dieselfde as Hy ontvang en ervaar (Jh.15:20, Rm.8:17, 1 Pt.2:21).

 

Johannes is na die eiland Patmos toe verban (v.9). Die eiland is 16 km x 9.6 km en is 38.4 km van die weskus van Turkye af.  Patmos was die Romeine se Robben-eiland.  Hulle het dié wat vir hulle probleme veroorsaak het na hierdie rotsagtige eiland toe verban.  Johannes se ‘misdaad’ was dat Hy die Woord van God verkondig het, en dat hy getuig het dat Jesus die Koning, Here, Verlosser, Messias, en Seun van God is (v.2).  Dit was tydens dié verbanning wat hy Christus se heerlikheid gesien het.

 

Moenie moed verloor as jy alleen moet staan vir die Here nie. Wanneer almal jou verlaat het sal die Here by jou staan (2 Tm.4:10, 16-17).  Word jy uitgeskuif omdat jy in Jesus glo (v.9)?  Voel jy alleen omdat jy die enigste Christen in jou gesin, familie, skool, werkplek, of woonbuurt is?  Dalk is daar van my lesers wat in ‘n heidense land werk, of in ‘n dorp bly waar daar nie ‘n kerk is wat die evangelie preek nie.  Miskien verhoed siekte jou om by die gelowiges te wees.  Of dalk is jy oud en het jy nie vervoer nie.  Dalk is jy te jonk om te bestuur, en wil jou ongelowige ouers jou nie kerk toe vat nie.  Of dalk het jy ‘n ongelowige man wat jou verbied om kerk toe te gaan.  In hierdie gevalle sal die Here ‘n spesiale poging maak om met jou te ontmoet (v.10-20).

 

Die visioen (v.10-16)

Een van die beste preke wat ek in my lewe gehoor het gaan oor Jesus in Getsemane. Die prediker (C.J. Mahaney) sê dat hy vir ure probeer dink het hoe hy Jesus se belewenis sou illustreer.  Op die einde het hy besef dat ‘n mens dit nie kán illustreer nie, ‘because only He has been there and done that.’  En so is dit ook met Op.1:10-16:  buiten vir die vergelykings in die visioen, kan ons nie regtig die verheerlikte Seun van God illustreer nie.

 

Johannes het sy visioen van Jesus en die res van Openbaring gesien toe Hy op die Dag van die Here in die Gees was (v.10).  Die Dag van die Here is die dag van sy opstanding, die eerste dag van die week waarop Christene bymekaar gekom het (Ps.118:22-24, Hd.4:10-11, Mt.28:1, Hd.20:7, 1 Kor.16:2).  As hy in die Gees was het hy nie geslaap nie, maar al hierdie dinge met sy eie oë gesien (v.10, 4:2, 17:3, 21:10, Esg.37:1).

 

Johannes het ‘n stem soos harde trompet agter hom gehoor (v.10, Eks.19:16, 19). Dit het gewys dat Christus die koning is (1 Kon.1:39) en dat Hy sy vyande gaan oordeel (Jes.58:1, Esg.33:3-6).  Hy moes Christus se woorde van oordeel in ‘n boek neerskryf (v.11, Jes.30:8, Hab.2:2), en dit vir die sewe kerke in Asië stuur:  Efese, Smirna, Pergamus, Tiatire, Sardis, Filadelfia, Laodisea (v.11, 22:16).

 

Johannes het omgedraai om te sien wie dit is wat met hom praat (v.12). Hy het die Goddelike Seun van die Mens tussen die sewe goue kandelare of sewe kerke gesien staan (v.12-13, 20, 2:1, Dn.7:13-14, Mt.18:20).  Hy was teenwoordig om te tug en te troos (hfst.2-3).  Johannes het sy heerlike voorkoms in koninklike en Goddelike terme beskryf.

 

[1] Sy lang kleed en die goue band om sy bors was soos die hoëpriester en soos ‘n koning s’n (v.13, Dn.10:5, Lv.8:7).

 

[2] Sy gloeiende wit hare was soos die Oue van Dae s’n (v.14, Dn.7:9). Die feit dat dit soos wit wol en sneeu was wys vir ons dat Hy heilig, rein en wys is (Jes.1:18).

 

[3] Sy vlammende oë wys dat Hy alles sien en die boosheid uitsif (v.14, 19:12, 2:18, Dn.10:6, Sp.20:8, Jh.2:24-25, Rm.2:16, Heb.4:13).

 

[4] Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ‘n vuuroond gesuiwer is (v.15, Dn.10:6). Hy sal sy vyande onder sy voete vertrap (2:18, 14:19, Ps.110:1).

 

[5] Soos God in Esg.43:2, was sy stem soos die gedreun van massas water, soos die golwe wat teen Patmos se rotse slaan, soos die Victoria valle in volle vloed, soos die gedreun van donderweer (v.15, 14:2, Dn.10:6).

 

[6] In sy regterhand was daar sewe sterre (v.16, 2:1, 3:1). Ons sal meer hiervan verstaan as ons by v.20 kom.

 

[7] In sy mond was sy woorde van oordeel soos ‘n skerp tweesnydende swaard (v.16, 2:12, 16, 19:15, Jes.49:2, Ef.6:17, Heb.4:12).

 

[8] Die glans van sy gesig was soos die son wat op sy helderste skyn (v.16, Mt.17:2, Jh.1:14, Hd.26:13-15).

 

Bid om op die Here se Dag (Sondae) Jesus se heerlikheid in die Woord te sien (v.10, 2 Kor.3:18). Niks kan jou vertroos soos dít nie.  Om hierdie heerlikheid te sien moet jy ‘n heilige ontevredenheid hê.  In Christus is daar ‘n heerlikheid en vreugde wat geen aardse plesier vir jou kan bied nie.  Paulus praat hiervan as hy bid dat God die Efesiërs se oë sal oopmaak om dit te sien (Ef.1:17-19).  Hy bid dat hulle krag sal hê om saam met al die gelowiges te begryp hoe breed, lank, hoog en diep Christus se liefde is, en dat hulle met die volheid van God vervul sal word (Ef.3:16-19).

 

Daar is sommige Christene wat nog nooit hierdie oorweldigende vreugde in die Woord ervaar het, of Christus se heerlikheid so helder gesien het nie.  Ek is daarvan oortuig dat dít die rede is hoekom mense ‘dieper’ ervarings buite die Bybel soek, en hoekom hulle in kerke sit waar hulle emosioneel opgesweep kan word.  Ek glo ook dat dít die rede is hoekom mense na sonde toe draai om ‘n emosionele ‘high’ te kry.  Ander mense verkies die buitelug bo die kerk, omdat hulle voel dat Jesus se heerlikheid duideliker sigbaar is in die berge as in die Bybel.  Ons sing dit selfs:  ‘As die branders op die rotse breek, of ‘n blom verkwik ons met sy reuk, is U ‘n baie meer as net ‘n preek – U’s wonderlik, voorwaar!’

 

Ons is soos kinders wat suigstokkies eet, omdat ons nog nooit roomerige Swiss sjokolade geproe het nie. ‘n Begeerte na Christus se diep liefde en glansryke heerlikheid in die Woord is ‘n kategorie wat in ons harte nie bestaan nie, omdat ons dit nog nooit ervaar het nie.  Moenie langer tevrede wees met preke en Bybelstudies wat jou hart nie beweeg nie.  Soos wat ‘n bok in die woestyn na water smag, moet jy met alles in jou na die Here smag (Ps.42:2).  As jy dit eers geproe het sal jy niks anders wil hê nie.

 

Hoe kan jy dit kry? Bekeer jou en glo die evangelie, omdat net ware gelowiges Jesus se heerlikheid kan sien (2 Kor.4:4, 6).  Bid daarvoor (Ps.119:18, Eks.33:18).  Bely en laat staan jou sonde, omdat dit sonde is wat keer dat jy God se heerlikheid sien (Rm.3:23).  Moenie haastig wees om uit die kerk uit te kom, klaar te bid, of jou Bybel toe te maak nie, maar wag geduldig op die Here (Eks.24:16, Ps.130:5-6).  Onthou dat jy nie die Here se arm kan draai om Homself aan jou te openbaar nie.  Tog moet jy met verwagting daarna uitsien dat Hy jou smeekgebed sal beantwoord en Homself aan jou sal openbaar.

 

Die verstroosting (v.17-18)

Spurgeon het vertel van ‘n gelowige vrou wat bang was om dood te gaan. ‘Sal jy eerder soos Elia met ‘n strydwa van vuur wil opgaan?’ het Spurgeon gevra.  ‘Ja,’ het die vrou gesê.  ‘Sou jy nóú opgeklim het as daar een om die hoek gestaan het?’ het hy gevra.  ‘Nee, ek sou te bang gewees het,’ het sy gesê.

 

Hy het toe vir die vrou gesê: ‘Jy sal waarskynlik een aand aan die slaap raak en in die hemel wakker word.’  En dit het presies so gebeur.  Volgens haar man was sy ná haar gesprek met Spurgeon nie meer bang vir die dood nie.  Sy het vas geglo dat die Here haar veilig deur die dal van die dood sou neem, en Hy het.[3]  Volgens v.17-18 is Jesus self begrawe om ons van die onsekerheid en vrees van die dood te red.

 

Toe Johannes soos ‘n dooie voor Jesus se voete neergeval het, het Hy sy regterhand op hom gelê en vir hom gesê om nie bang te wees nie (v.17, Mt.17:6-7, Dn.10:9-12, 16-17, 8:17-18). Jesus is die Eerste en die Laaste; voor en na Hom sal daar geen ander god wees nie (v.17, 2:8, 22:13, 1:8, Jes.44:6, 41:4, 48:12).  Hy was dood, maar het uit die graf uit opgestaan en lewe vir ewig (v.18, Rm.6:9, Dn.12:7).  Die sleutels van die dood en die doderyk is in sy sak.  Volgens die Joodse rabbi’s het God die sleutels van die dood en doderyk gehad.[4]  Weereens wys dit vir ons dat Jesus God is.

 

Die Romeine se doodstraf en vervoling kon nie die kerk beskadig het nie, maar was soos ‘n ou leeu wat niks tande in sy bek het nie (v.18, 2:8, 10, 1 Kor.15:55, Heb.2:14-15). Jesus het die volmag om mense en engele in die tronk van die dood en die graf toe te sluit, en om hulle weer uit te laat (v.18, 9:1, 20:1, Jud.6-7, Jh.5:28-29).  By die laaste oordeel sal Jesus die dood en graf finaal vernietig, sodat dit ons nie kan beskadig nie (20:14, 21:4, 1 Kor.15:26).

 

Moenie bang wees vir wat in Suid-Afrika gaan gebeur nie; vir wat in die toekoms van jou kinders, kleinkinders en die kerk gaan word nie. As God aan jou kant is sal Hy ook dié wat teen jou is tot jou voordeel gebruik (Rm.8:31, Gn.50:20).

 

Die ergste ding wat mense aan jou kan doen is om jou dood te maak. Hulle kan nie jou siel beskadig, jou uit God se hand uit ruk, of jou van sy liefde skei nie (Mt.10:28, Jh.10:28-29, Rm.8:38-39).  As hulle jou doodgemaak het is jy veilig by die Here en kan hulle niks verder aan jou doen nie.  Deur jou dood te maak sorg hulle dat jy gouer by die Here is.  Jy  hoef nie bang te wees om dood te gaan nie.  Jesus is soewerein oor die dood (v.18) en sal sorg dat dit vir jou so skadeloos is soos slaap.

 

Moenie aan die dood dink as ‘n man met ‘n lang swart mantel en ‘n maaier in sy hand nie; ‘n man sonder ‘n gesig wat jou kom haal nie. Die dood is nie soewerein nie.  Eers as Jesus die opdrag gee sal jy jou oë toemaak en onmiddellik in sy lieflike teenwoordigheid wees.

 

Die verduideliking (v.19-20)

Meer as 300 jaar gelede het John Bunyan Die Pelgrim se Reis geskryf.  Die boek is ‘n allegorie waarin elke karakter, plek en gebeurtenis ‘n dieper betekenis het.  Die hoofkarakter se naam is Christen.  Die las op sy rug is ‘n voorstelling van sy sonde oortuiging.  Die klein hekkie wys dat iemand wat na die Here toe kom homself moet verneder.  Karakters en plekke soos Getrou, Hoopvol, die Reus Wanhoop, Hulp, die Herders, die Kasteel van Vertwyfeling, die Betowerende Grond en Moedverloormoeras is kleurvolle beskrywings van hoe dit in die Christelike lewe gaan.  Op dieselfde manier is Openbaring vol van simbole wat spesifieke betekenisse het.  In v.20 gee Jesus vir ons twee voorbeelde hiervan.

 

Jesus het vir Johannes gesê om die visioen van v.12-16 neer te skryf, om te skryf oor wat tans aan die gebeur was (hfst.2-3), asook oor die dinge wat in die nabye en verre toekoms sou plaasvind (v.1, 3, hfst.4-22). Jesus het die geheimenis van die sewe sterre en die sewe kandelare aan Johannes bekend gemaak.  Die sewe sterre is die sewe engele of boodskappers wat die boek aan die gemeentes moes voorhou (2:1, 8, 12, 18, 3:1, 7, 14).  Hulle moes soos sterre in die wêreld geskyn het (v.20, Fil.2:15, Dn.12:3).  Terwyl hulle hierdie taak uitgevoer het, was hulle veilig in die Christus se hande (v.20, Jh.10:28).  Net so moes die sewe gemeentes in Asië ook die lig van die evangelie in ‘n donker wêreld geskyn het (v.20, Mt.5:16, Hd.13:47).

 

Lees Openbaring met die vertroue dat dit moontlik is om die boek te verstaan. As jy dit vermy sal jy uitmis op die belofte van seën wat Jesus in v.3 gee.  Onthou asb. dat die boek ‘n openbaring is, en nie ‘n verborgenheid nie; dat dit gegee is om dinge bekend te maak en nie om dinge weg te steek nie (v.1).  Die feit dat dit ‘n geheimenis is (v.20), beteken nie dat dit geheimsinnig is nie, maar eerder dat dit wat onbekend was nou aan ons geopenbaar is (vgl. Rm.16:25-26, 1 Kor.15:51, Ef.3:3-6).  Ander verse in die boek, asook in die res van die Bybel verduidelik die simbole vir ons.  Ek het bv. probeer om die simbole in v.9-20 aan die hand van die Ou Testament te verduidelik.  As jy dit met hfst.3-22 doen sal jy die visioene en simbole vir jou sin maak.

 

Tim LaHaye is bekend vir sy topverkoper Left Behind reeks.  Die boeke is verfilm en is propvol van aksie.  Die boodskap wat baie duidelik oorgedra word is dat dinge in die laaste dae baie erg gaan wees.  Kontrasteer dit met die titel van William Hendriksen se kommentaar op Openbaring (alhoewel ek nie met sy siening oor die eindtyd saamstem nie): More than Conquerors.  Hendriksen se titel impliseer dat die kerk haar vyande gaan oorwin.  Hy sê basies dat Openbaring nie maar net bestaan uit visioene van vrees en verskrikking nie, maar dat dit een groot visioen van vertroosting is.

 

[1] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.2, pp.414-416

[2] Ibid, p.416

[3] Ibid, pp.379-380

[4] Alan M. Stibbs, Search the Scriptures, 2003, p.498 n.2

Hoe om gelukkig te wees

Beatitudes

‘n Paar weke gelede het ek ‘n DVD van Christelike komediante gesien. Die titel was: ‘Thou shalt laugh.’ Dit het gelyk of dit ‘n poging was om vir die wêreld te wys dat Christene ook kan lag. Ek het die idee gekry hulle dink daar is nie genoeg vreugde in die Christelike lewe nie, en dat ons komedie nodig het om te lag. Ek dink ook hulle verwar lag met die dieper vreugde van Christenskap.

 

C.S. Lewis het gesê: ‘there is a kind of happiness and wonder that makes you serious. It is too good to waste on jokes.’[1] Ek probeer nie sê Christene kan nie lag nie. Ek sê eerder dat daar in Jesus ‘n dieper vreugde is as die oppervlakkige gelag van die wêreld.

 

Blaise Pascal het gesê dat elke mens gelukkig wil wees; selfs die mense wat selfmoord pleeg. So iemand doen dit omdat hy nie langer ongelukkig wil wees nie, en neem dan sy eie lewe in die hoop om van sy hartseer te ontsnap.

 

Mense soek geluk op baie plekke. En hul kry dit daar… vir ‘n rukkie. As die ding wat hulle gelukkig maak sonde is, dan weeg ‘n skuldige gewete swaarder, en bring dit uiteindelik hartseer. As dit nié sonde is nie, hou die vreugde op sodra die ervaring verby is. Hulle spring dan van een ding na die volgende, opsoek na vreugde, maar kry dit nie. Hulle mis die waarheid van C.S. Lewis se woorde: ‘If you find in yourself a desire that nothing in this world can satisfy, the most probable explanation is that you were made for another world.’ En dit is presies Jesus se punt in Matteus 5:1-12.

 

Kom na Jesus toe (v.1-2)

Prosperity predikers sê as jy na Jesus toe kom, sal jy altyd ryk, gesond, voorspoedig, en gelukkig wees. Dis nie waar nie, en dis glad nie wat ek met ‘n gelukkige lewe bedoel nie. Ek bedoel eerder wat John Paton ervaar het. Toe die kannibale hom wou doodmaak moes hy in ‘n boom skuil. Só onthou hy sy ervaring:

 

‘I heard the frequent discharging of muskets, and the yells of the Savages. Yet I sat there among the branches, as safe in the arms of Jesus. Never, in all my sorrows, did my Lord draw nearer to me, and speak more soothingly in my soul, than when the moonlight flickered among these chestnut leaves, and the night air played on my throbbing brow, as I told all my heart to Jesus. Alone, yet not alone!’[2]

 

Ware dissipels is soos Paton: ten spyte van ons trane (v.4) en vervolging (v.10-12), gee Jesus vreugde en vrede vir almal wat na Hom toe kom.

 

‘n Groot skare uit die hele Israel het vir Jesus gevolg (v.1, 4:24-25). Hy het, soos Moses, op ‘n berg geklim om ‘n nuwe wet te gee (v.1, 4:23, Eksodus 19:20). Volgens die gebruik van Joodse Rabbi’s het Jesus gaan sit (v.1, vgl. Lukas 4:20). Sy dissipels het na Hom toe gekom; na Hóm toe (v.1). Hy het vir hulle die Woord geleer (v.2). Dit is immers hoekom hy gekom het (Markus 1:38). Jesus wou nie net hê hulle moes sy woorde hoor nie, maar dit doen ook (7:21, 24-27, Jakobus 1:22).

 

Kom deur die evangelie, geloof, bekering, gebed, en die Woord na Jesus toe (v.1-2, Jakobus 4:8, Hebreërs 4:16, 10:22). Sonder Jesus sal die hele wêreld jou nie gelukkig maak nie: “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?” (Matteus 16:26). Verskeie van die wêreld se rykstes getuig hiervan:[3]

 

  • ‘The care of $200 million is enough to kill anyone. There is no pleasure in it.’ (W.H. Vanderbilt).
  • ‘I am the most miserable man on earth.’ (John Jacob Astor).
  • ‘I have made many millions, but they have brought me no happiness.’ (John D. Rockefeller).
  • ‘Millionaires seldom smile.’ (Andrew Carnegie).
  • ‘I was happier when doing a mechanic’s job.’ (Henry Ford).

 

Ware en ewige blydskap kan jy net in Jesus vind.

 

Besef jy is verlore (v.3)

William Carey het gevra dat hierdie woorde op sy grafsteen moet wees:

 

A wretched, poor and helpless worm,

On Thy kind arms I fall.[4]

 

Dit som die lewe op van iemand wat arm van gees was (v.3).

 

Die Ou Testament het met ‘n vloek geeïndig (Maleagi 4:6). Die Nuwe Testament begin met ‘n seën (v.3-12). Toe God die wet deur Moses gegee het was daar ‘n seën en ‘n vloek uitgespreek (Deuteronomium 28). Toe Jesus die nuwe wet in Matteus 5 gegee het, het Hy net ‘n seën uitgespreek (v.3-12). Jesus self het ons vloek op Hom geneem, sodat daar vir ons net seën oorbly (Galasiërs 3:13-14).

 

Die woord seën [Gk. makarios] beteken meer as om net gelukkig te voel. Dit het te doen met voorspoed, geluk, en seën[5] wat van God af kom. Hy is die bron en fontein van alle seën (Efesiërs 1:3). So iemand kan dus tergelyketyd treur en geluk hê (v.3-4). Martyn Lloyd-Jones het gesê: ‘The happiness of the Christian is a serious happiness.’[6]

 

Om arm van gees te wees (v.3) beteken nie jy is geestelik arm of het ‘n vlak verhouding met God nie. Dit verwys eerder na iemand wat besef hy is innerlik bankrot, en niks het om vir God te bied nie (Jesaja 57:15). Dit verwys na iemand wat nie dink nie hy is ryk of kan sy weg hemel toe verdien of koop nie (Lukas 18:9-14, Filippense 3:4-9).

 

So iemand is geseënd, want die Koninkryk van die hemel is syne deur Jesus (v.3, Hebreërs 1:2, 1 Korintiërs 3:21-23, Galasiërs 3:29). As die bruid van Jesus is ons ‘binne gemeenskap van goedere getroud’. As sy kinders is ons erfgename van die Koninkryk. Is dit nie ironies nie: die armes van gees besit die koninkryk? Hulle is arm maar ryk (Openbaring 2:9).

 

Wees arm van gees. Moenie net jou sonde los nie – los ook jou goeie selfbeeld, self-regverdigheid, en die kreed wat sê: ‘Glo in jouself’. Hou op om jouself te meet aan ander, sodat jy goed voel oor jouself. Meet jouself aan God en aan Jesus se lering in hfst.5. Besef dat jy niks is of het nie. Besef jy is verlore (Jesaja 6:5). Smeek God om genade en sien Jesus as jou enigste hoop.

 

Pasop dat jy nie dink jy is arm van gees, omdat jy jouself bejammer en vir almal sê jy is niks nie. Party mense doen dit, omdat hulle hoop ander sal sê hulle is nederig.

 

Hoekom moet jy arm van gees wees? Want dan is die Koninkryk joune. Dit is nie joune deur verdienste nie, maar word gegee as ‘n beloning en geskenk deur God se genade. Die persoon wat hooghartig van gees is, sal nie die hemel kry nie, maar sal vir ewig arm wees in die hel.

 

Treur oor jou sonde (v.4)

Fanie se Sondagskool juffrou sê hy moet sy hart vir Jesus gee. Ná die les sê sy hy moet agter haar aan bid. Hy nooi vir Jesus in sy hart in, en glo hy is nou ‘n Christen.

 

Dit is tipies van moderne bekerings. Vandag is daar min bekerings waar mense ‘n sondestryd het soos wat Charles Spurgeon en John Bunyan gehad het. Daar is min mense wat oor hulle sonde treur (v.4).

 

Iemand wat besef hy is arm en verlore in sy sonde (v.3), sal daaroor treur (v.4, Jakobus 4:9, Romeine 7:24). Hy sal treur oor sy eie sonde, oor sy geliefdes wat verlore is, en oor die samelewing se sonde (Jeremia 9:1, Psalm 119:136, Lukas 19:41, Romeine 9:2). Dit beteken nie hy lag nooit nie, maar hy lag nie oor sonde nie (1 Korintiërs 13:6). Hy lag nie oor dit waarvoor Jesus gesterf het nie.

 

God vertroos [Gk. parakaleo] en vergewe hom (v.4). Volgens Jesaja 61:2-3 het die Messias gekom “om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking.”

 

In Jesaja 40:1-2 sê die Here: “Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes.” In die hemel sal ons vertroos word en sal die Here al ons trane afdroog (Lukas 16:25, Openbaring 21:4). ‘Thus tears, like raindrops, fall to the ground and come up in flowers.’[7]

 

Toets of jou trane eg is. Voel jy tuis in die wêreld? Wens jy dat Jesus nié sal kom nie, omdat jy langer hier wil bly? Begeer jy ‘n plek waar daar niks sonde is nie? Haat jy jou sonde? Wens jy vir ‘n nuwe hart? Is jy jammer dat jou sonde die Here bedroef (2 Korintiërs 7:10-11)?

 

Of haat jy net die gevolge van jou sonde? Jy hou nie daarvan om uitgevang te word en skuldig te voel nie (2 Korintiërs 7:10)? Is jy die tipe persoon wat lag vir vuil grappe? Hou jy van skindernuus om die braaivleisvuur en in die Huisgenoot? Geniet jy dit om na lelike films te kyk?

 

‘n Ware dissipel treur selfs ná sy redding [die Grieks vir ‘treur’ staan in die voortdurende tyd]. Hy sug gereeld oor sy sonde en vra vergifnis. Hy treur egter nie soos iemand wat morbied is nie, want God vertroos hom (v.4, 2 Tessalonisense 2:16-17).

 

Hoekom moet jy toets of jou trane eg is? Want vals trane lei na die ewige trane van die hel (2 Korintiërs 7:10, Matteus 25:30).

 

Pasop om nie te dink dat jou trane God se vergifnis wen nie. ‘Nie my trane of geween, kan my red – Heer, U alleen!’ Jou trane wys egter of die genade in jou hart eg is of nie.

 

Wees sagmoedig (v.5)

Toe ek op hoërskool was, was daar twee tipes seuns. Die een soort kon ander beheer en slaan, maar kon hulleself nie beheer nie. Van die ander soort was daar maar min. Hulle was innerlik sterk en kon hulleself beheer.

 

Eendag toe slaan ‘n nr.1-tipe seun ‘n nr.2-tipe. Die nr.2-tipe het stilgestaan en niks terug gedoen nie. Sy sagmoedigheid was nie ‘n teken van swakheid nie, maar van krag onder beheer. Hy was so rustig en sterk soos ‘n olifant, nee, soos Jesus (11:29, 21:5).

 

Iemand wat sy sonde sien en daaroor treur sal ook sagmoedig wees (v.5). Sagmoedigheid praat nie van iemand wat van nature saggeaard is nie. D.A. Carson sê: ‘Some people are just naturally nice and easy-going; but then again, so are some dogs. Meekness goes much deeper.’[8]

 

Die sagmoedige persoon sien hoe lelik sy eie hart is (v.3-4), en plaas ander bo homself (v.5). Die sagmoedige persoon is hard op homself, maar sag op ander. Die sagmoedige persoon is geseënd, want hy sal die aarde as erfdeel kry (v.5, Psalm 37:11). Die sagmoedige persoon sal oor die aarde regeer (ironies, né?).

 

Wees sagmoedig uit die regte motief. Moenie gaaf wees, omdat jy bang is vir konfrontasie, wil hê almal moet van jou hou, bekend wil staan as ‘n ‘nice’ mens, nie hard wil wees soos jou pa nie, of hoop God straf jou nie en jy kan die hemel verdien. Wees sagmoedig, omdat jy besef jy is ‘n sondaar soos ander, en omdat jy soos Jesus wil wees.

 

Begeer om heilig te wees (v.6)

Robert Murray McCheyne het gebid: ‘Make me as holy as a saved sinner can be.’ Hy het gedors na heiligheid meer as wat hy dors was vir water (v.6).

 

Iemand wat sy sonde sien en daaroor treur, soek dit nie net weg nie, maar begeer ook geregtigheid in die plek daarvan (v.6). Hy soek Jesus se geregtigheid maar ook ‘n opregte lewe (6:1, 33, Filippense 3:9). Hy honger en dors daarna, en as hy dit nie kan kry nie sal hy sterf (v.6, Psalm 42:2-3, Jesaja 55:1-2).

 

God versadig hom (v.6, Johannes 6:35, 4:14). Hy versadig hom, en gee nie maar net vir hom krummels en druppels nie. As die persoon dit eers gesmaak het, soek hy nog (hy honger en dors aanhoudend soos wat die Grieks ook aandui). Hy wil die hoogte, lengte, breedte, en diepte van Jesus se liefde ken; hy wil vervul wees met al die volheid van God (Efesiërs 3:16-19). Hy sal aanhou om honger en dors te wees, totdat hy vir Jesus self het in die hemel (Filippense 3:14).

 

Word versadig met Jesus. ‘n Vals gelowige honger en dors nie na Jesus, sy Woord, geregtigheid, of ‘n Christelike karakter nie. Hy soek net dít wat Jesus kan gee: ‘n Koninkryk, die aarde, en troos. So iemand soek versadiging in geld, drank, dwelms, seks, mense se guns, sport, ‘n mooi liggaam, films, musiek, ens. Gevolglik bly hy leeg, honger, en dors, want net Jesus kan versadig.

 

Wees barmhartig (v.7)

In my beradingklas het ons ‘n praktiese sessie gehad, waarin ons mekaar moes beraad. ‘n Man in my groep het raad gevra, omdat hy te hard was op sy vrou en kinders. Ons het agtergekom wat die probleem is. Hy was ‘n perfeksionis en ook wetties. Hy het geïrriteerd geraak met ander wat nie aan sý standaarde voldoen nie. Hy (soos ons) het te min op genade gefokus. En hoe kan jy genade bewys as jy dit nie verstaan nie?

 

Die ware gelowige ontvang barmhartigheid, en daarom kan hy dit ook bewys (v.7, vgl. 18:33, Lukas 6:36). Hy is barmhartig met die wat nie vergifnis verdien nie, asook met mense wat swaarkry (Spreuke 19:17). Hierdie is die geseënde en geredde mens wat barmhartigheid ontvang en uitdeel (v.6).

 

Verstaan en ervaar dan genade voordat jy dit kan bewys. Kom ek verduidelik barmhartigheid. Jy is diep in die skuld by God: jy is bitter, het bose planne, is wellustig, is ‘n people pleaser, kyk na lelike dinge, skinder, lieg, steel, kroek, trap op ander, is selfsugtig, vloek, slaap rond, word dronk, is rebels teen jou ouers, haat ander, is lui, het ‘n humeur, is hoogmoedig, is jaloers, maak of jy ‘nice’ is terwyl jy in die geheim sondig (jy is skynheilig). Jesus het gesterf om sulke sondes te vergewe. Hy is barmhartig. En is jy onbarmhartig? “Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie” (Jakobus 2:13).

 

Wees innerlik rein (v.8)

Ek het ‘n foto van ‘n gay parade gesien waar ‘n lesbian ‘n banier vashou wat sê: ‘I’m sure hell will be awesome.’ ‘n Ander banier het gesê: ‘If Jesus returns, kill Him again.’ Mense wat nie rein in hulle harte is nie, het nie ‘n begeerte om God te sien nie. En tog is nie almal wat God wil sien, rein van hart nie. Wie is rein van hart?

 

Iemand wat rein van hart is, haat sy eie onrein hart wat vol van sonde is (15:19). Sy hart is nie gevul met skewe motiewe en vuil gedagtes nie (v.8, Filippense 4:8). Hy weet hy kan nie self sy hart reinig nie (Spreuke 20:9), en daarom vra hy dat God dit sal doen (1 Johannes 1:9, Hebreërs 9:14, Titus 2:14). Om ‘n rein hart te hê bekeer hy hom (Jakobus 1:27, 2 Timoteus 2:22), volg die Skrif (Psalm 119:9), en hou die beloning vooroë (v.8b, 1 Johannes 3:2-3). Wat sê jou dade en woorde van jou hart? Doen jy dinge om die sonde in jou hart weg te steek?

 

Iemand wat rein van hart is sal God sien; nou in die evangelie, en hierna in die hemel (v.8, Psalm 73:1, 24:3-4, 2 Korintiërs 4:6, Openbaring 22:4). ‘n Onheilige persoon kan nie voor God kom nie (Habakkuk 1:13, Hebreërs 12:14). Wat ‘n voorreg om God te sien. Dink maar aan Moses wat graag sy gesig wóú sien, maar nie kon nie (Eksodus 33:20, 23). Wie rein van hart is sal God sien.

 

Maak vrede (v.9)

Beide John Bunyan en Martin Luther het die dag voor hulle dood vrede bewerk tussen kwaai vriende. Hulle was vredemakers (v.9). ‘n Ware dissipel is nie soos die wêreld wat bloot vrede geniet en dit soek nie: hy máák vrede (v.9). Hy maak vrede waar hy teen ander gesondig het of hulle teen hom. Hy wag nie tot ander vrede maak nie, maar neem die eerste stap (Matteus 5:21-26). Hy maak vrede tussen ander wat verdeeld is (Filippense 4:2-3, Efesiërs 2:14). Hy deel die evangelie en maak so vrede tussen sondaars en God (2 Korintiërs 5:20). Hy is geseënd, want sy status is ‘kind van God’ (v.9, 1 Johannes 3:1).

 

Leef in vrede met almal. As jy nie vrede het met ander nie, maar rusie maak, twis, baklei, vuis slaan, ander haat, vloek, slegsê, en beskinder, is jy nie reg met God nie – al dink jy so (1 Johannes 4:20-21). Die oorlog rondom jou wys daar is oorlog binne jou (Jakobus 4:1-2). Maak dan vrede met God en ander (Kolossense 1:20, Jesaja 27:5, Romeine 12:18).

 

Ly vir Jesus (v.10-12)

Laas Sondag het ‘n sendeling van Frontline Fellowship vir ons ‘n foto gewys van ‘n Christen sonder voete in Sudan. Die Moslems het hom gewaarsku om op te hou preek. Toe hy nie luister nie, het hulle hom geslaan. Maar hy het aangehou om die evangelie te preek. Uiteindelik het hulle sy voete afgesny. Hy het vir hom ‘n donkie gekoop, en aangehou om die evangelie te preek. Hy het geglo dat sy beloning veel groter sal wees as sy lyding (v.10-12, 2 Korintiërs 4:17). As jy v.3-9 leef, sal jy aandag trek. Soms is dit negatiewe aandag, sodat jy vervolg word. Maar jy sal ook beloon word.

 

Die laaste saligspreking strek oor drie verse (v.10-12). Jesus wil wys dat dit baie belangrik en relevant is: sy dissipels gaan ly. Vervolging beteken nie hulle is vervloek of het ‘n klein geloof nie. Inteendeel, dit beteken hulle is geseënd (v.10-11). Vervolging wys jy is ‘n ware dissipel (v.10, 2 Timoteus 3:12). Jy moet egter vir jou heilige lewe vervolg word, en nie omdat jy sondig nie (v.10, 1 Petrus 4:15, 2:20).

 

So iemand is geseënd, omdat die Koninkryk van die hemel syne is (v.10, 3). Die wêreld verwerp jou, maar die hemel verwelkom jou. Jy het nie ‘n erfdeel op aarde nie, maar die hemel is jou erfdeel. Die Moslems glo dat hulle die hemel verdien as hulle in ‘n heilige oorlog (Jihad) sterf. ‘n Christen glo nie hy verdien die hemel omdat hy vervolg word nie. Hy glo egter dat ‘n vervolgde Christen beloon sal word (v.10-12).

 

Daarom is jy geseënd as ander jou slegsê, vervolg, en belieg omdat jy aan Jesus behoort (v.11, 1 Petrus 4:14). Wees dan, soos die apostels en die martelare deur die geskiedenis, bly as jy vir sy Naam moet ly (v.12, Handelinge 5:41, 2 Korintiërs 12:10, Kolossense 1:11, 24, Romeine 5:3, Hebreërs 10:34, Jakobus 1:2, 1 Petrus 4:13). ‘Rejoice, because of, rather than in spite of, pesecution.’[9]

 

Moenie bly wees omdat jy kan brand, of omdat jou vervolgers moord kan pleeg nie. Wees eerder bly oor die beloning wat wag (v.12, 10b, Openbaring 2:10). En moenie dink jy ly alleen nie. Onthou hoe die profete en die grootste Profeet, Jesus, vervolg is – jy is in goeie geselskap (v.12).

 

Wees bereid om vir Jesus te ly. Moenie lyding soek, sodat jy skuldig is aan selfmoord nie. Moenie wil ly, sodat jy beroemd kan wees nie (1 Korintiërs 13:3). Moenie ly omdat jy die hele dag jou Bybel lees, sodat jou werk agter raak nie. Moenie ly omdat jy ongeskik, ‘in-your-face’, en ontaktvol is nie. Moenie ly omdat jy sê: ‘I call a spade a spade’ nie.

 

Ly omdat jy opstaan vir die waarheid. Ly omdat jy opstaan teen aborsie en nie gay huwelike voorstaan nie. Ly omdat jy eerlik werk, nie saam met die res drink of rondslaap nie. Ly omdat jy nie omkoopgeld vat nie, en nie vir vuil grappe lag nie. Ly omdat jy heilig is en die evangelie preek. Jy sal tronk toe gaan, nie bevorder word nie, nie leerlingraad wees nie, jou toekenning verbeur, nie na die braai toe genooi word nie, uitgeskuif word (Lukas 6:22), vuil kyke kry, gespot word, uitgelag word.

 

As die wêreld jou nie haat, slegsê, of vervolg nie, wys dit jy is deel van hulle (Johannes 15:18-20). As jy ongered is sal jy nie vervolg word nie. Maar jy sal vir ewig ly in die hel. ‘n Vals gelowige gaan saam met die stroom en soek almal se guns (Lukas 6:26). Hy sal nie vir Jesus ly nie, maar verloën Hom.

 

Voor sy bekering het Charles Spurgeon ‘n vreeslike stryd gehad met sonde oortuiging. Hy het gewens iemand kan vir hom sê hoe sy sondes vergewe kan word. Na ‘n lang gesoek het hy die antwoord by ‘n Metodiste Kapel gekry. Die prediker het nie opgedaag nie. ‘n Leek het opgestaan en die evangelie gepreek. Hy het na Spurgeon gekyk en gesê:

 

‘Young man, you look very miserable… and you always will be miserable – miserable in life, and miserable in death – if you don’t obey text; but if you obey now, this moment, you will be saved… Young man, look to Jesus Christ. Look! Look! Look! You have nothin’ to do but to look and live.’[10]

 

Spurgeon het dadelik gesien hoe om vergewe te word. Hy het deur geloof na Jesus gekyk en is gered. Hy wou sing en dans van vreugde. Hy het verstaan hoekom John Bunyan na sý bekering vir die kraaie op land wou vertel.

 

Is jy miserabel soos wat Spurgeon was? Wil jy die vreugde hê wat hy gekry het? Vra dat die Heilige Gees jou nuut maak en Matteus 5:1-12 op jou siel stempel.

[1] The Chronicles of Narnia, p.759

[2] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, p.200

[3] Randy Alcorn, The Treasure Principle, pp.52-53

[4] S. Pearce Carey, William Carey, p.387

[5] In die Grieks staan seën in ‘n meervoud om te wys hoe oorvloedig dit is.

[6] The Sermon on the Mount: vol.1, p.62

[7] William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew, p.271

[8] The Sermon on the Mount, pp.22-23

[9] New Bible Commentary (3rd Edition), p.822

[10] Autobiography: vol.1, pp.88-89

Xenofobie en xenofilie in die Bybel

Xenophobia

Die onlangse xenofobiese aanvalle is ‘n herhaling van wat ‘n paar jaar gelede gebeur het.  Die woord ‘xenofobie’ kom van twee Griekse woorde wat ‘vreemdeling’ (xenos) en ‘vrees’ (phobos) beteken.  Jy sal deur ‘n blanke woonbuurt ry en veilig voel.  As jy egter deur ‘n swart woonbuurt ry sluit jy jou kar se deure.  Toe ek op skool was het ek en my pa een middag gehardloop om Checkers oop te vang.  Twee Venda seuntjies het in die gang gesit.  Toe hulle ons sien aankom het hulle ‘Makhuwa!’ (‘wit man!’) geroep en vir hulle lewens gehardloop.

Xenofilie is die teenoorgestelde van xenofobie.  Dit kom van twee Griekse woorde wat ‘liefde’ (phileo) en ‘vreemdeling’ (xenos) beteken.  Terwyl xenofobie algemeen onder ongelowiges voorkom, is xenofilie ‘n Skriftuurlike opdrag aan Christene.  In Eksodus 17:8-18:27 lees ons van beide.

Xenofobie (hfst.17)

Abdul, ‘n Bangladeshi, maak ‘n klein kafee oop in sentraal Kempton Park.  In Bangladesh kos ‘n blikkie Coke R4.  Hier verkoop hy dit vir R6.  Ander Suid-Afrikaanse winkels verkoop dit vir R8 en kan nie met sý pryse vergelyk nie.  Suid-Afrikaanse winkeleienaars in die omgewing is kwaad omdat húlle kliënte nou by sý winkel koop.  Gevolglik plunder hulle sy winkel en rand hulle hom aan.  Dít is die huidige prent van xenofobie in Suid-Afrika.  In Eksodus 17 het ons ‘n soortgelyke prentjie.

Amalek was een van die sterkste nasies op aarde (Numeri 24:20).  Hulle was uit Esau se nageslag (Genesis 36:12).  Dit was seker oor die oase naby Kades wat hulle met Israel kom veg het (v.8).  Vegtery oor water in die woestyn is algemeen (Genesis 26:17-22).  Amalek se aanval op Israel was ook die Here se tug vir die volk se murmurering in v.7.

Josua moes troepe kies om teen Amalek te gaan veg.  Moses sou sy staf neem en saam met Aäron en Hur teen die berg opklim (v.9-10, 24:13-14).  Hur was Kaleb se seun en Besaleël – die man wat die tabernakel se meubels gemaak het – se oupa (31:2, 1 Kronieke 2:19-20).  Terwyl Moses sy staf opgehou het, het Israel die oorhand gehad.  As hy sy moeë arms laat sak het, het Amalek die oorhand gekry.  Dít het vir die volk gewys dat hulle hoop op ‘n oowinning in God lê, en nie in hulle eie krag nie (v.11).  Moses se hande wat na die hemel uitgestrek was, was simbolies van gebed (9:33, 1 Timoteus 2:8).  Omdat sy hande moeg geword het, het Aäron en Hur dit opgehou totdat die son gesak het en Israel hulle vyande verslaan het (v.12-13).

Moses moes dié oorwinning in ‘n boek opteken, sodat Josua kon onthou om vir Amalek uit te wis (v.14, 24:4, Numeri 21:14).  In Deuteronomium 25:17-19 het die Here deur Moses gesê:  “Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie.  As dan die HERE jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van Amalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.”

Die Here het later vir koning Saul beveel om die Amalekiete uit te wis, maar hy was ongehoorsaam (1 Samuel 15:2-3).  In 1 Samuel 30:1-5, 16-17 het Dawid teen hulle baklei.  In 1 Kronieke 4:42-43 het die Simeoniete ‘n oorblyfsel van die Amalekiete verslaan, en in Ester 3:1 lees ons van die laaste van Agag – die koning van Amalek in 1 Samuel 15:32 – se nasate.

Ná die oorlog met Amalek het Moses ‘n altaar gebou en gesê dat die Here Israel se oorlogbanier is.  God sou vir baie geslagte lank teen Amalek oorlog maak, omdat hulle hul hand teen sy troon opgelig het (v.15-16).

As Christene moet ons xenofobie verwag.  Dit is nou wel vreemdelinge wat uit ons land verdryf word, maar dit sal nie lank wees voordat die wêreld jou as ‘n vreemdeling op die aarde sal verdryf nie.  In 1 Petrus 1:1, 2:11 praat die Skrif van ons as vreemdelinge en bywoners op die aarde.  Jesus het gesê:

“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.  As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê.  Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.  Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het:  ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie.  As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg.  As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.”(Johannes 15:18-20).

As jy nie soos húlle is nie, sal die wêreld sal jou uitskuif, spot, haat, aanval, en doodmaak.  Om guns te wen sal hulle selfs met bedrieglikheid in die kerk inkom – moenie aan hulle toegee nie.  “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.” (Matteus 24:24).

Jy moenie en kán nie met die swaard die wêreld oorwin nie.  Hou aan om in Jesus en sy Woord te glo as jy die wêreld se versoekings wil weerstaan (v.12, 1 Johannes 2:15-16).  Dit is wat die Bybel ons beveel.  “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.  En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.  En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.  En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.  Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matteus 24:9-13).  “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.  Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Johannes 5:4-5).

Soos wat God vir Israel geveg het, sal Hy vir jou veg en die wêreld oorwin (v.16).  Deur sy kruisdood het Jesus reeds die wêreld en die owerste daarvan (die duiwel) oorwin (Johannes 12:31, 16:33).  Terwyl ons in hierdie wêreld is, sal God ons teen die bose bewaar (Johannes 17:14-16).  “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Johannes 4:4).

God gaan hierdie wêreld oordeel.  Hy het sy Seun gestuur om die wêreld te red (Johannes 3:16-17).  Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem; die Lig van die wêreld (Johannes 1:29, 8:12).  Jesus stuur ons nou in die wêreld in om sy ligdraers te wees (Johannes 17:18).

Hoekom moet ons haat van die wêreld af verwag?  As jy dit nié verwag nie, sal jy verras en geskok wees wanneer dit kom.  Daarom waarsku 1 Johannes 3:13:  “Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.”

Xenofilie (hfst.18)

Tydens een vakansie het ons by ‘n Sweedse man en Koreaanse vrou gaan kuier.  Hulle het vir ons die lekkerste kos voorgesit en ons baie hartlik ontvang.  Hulle was gasvry, spraaksaam, en het saam met ons gebid.  Hulle was lief vir die ‘vreemdelinge’ in hulle huis – al het hulle ons van geen kant af geken nie.  Die Skrif sê:  “Die broederliefde moet bly.  Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.” (Hebreërs 13:1-2).

Dit is presies wat God en sy volk in hfst.18 met Jetro gedoen het.  Alhoewel hy ‘n Midianiet was, het die volk hom vriendelik ontvang, en het die Here hom gered.  Jetro was ‘n heidense priester (v.1).  Hy het gehoor wat God vir sy volk gedoen het (v.1).  Hy het Moses se vrou en seuns vir hom teruggebring (v.1-4).  Moses het hulle waarskynlik ná die episode in 4:24-26 vir Jetro gestuur om veilig te wees.

Hfst.18 se gebeure vind plaas ná hfst.19-20.  Ons weet dit omdat Moses en die volk volgens 18:5 reeds by Sinaï kamp opgeslaan het, en omdat hulle reeds die wet ontvang het (v.16, 20).  Die rede hoekom hfst.18 na hfst.17 geplaas word, is omdat Jetro in kontras gestel word met Amalek en Israel.  In hfst.17 kla die volk, en in hfst.18 prys ‘n heiden die God van Israel (vgl. Matteus 8:10).  In hfst.17 val slegte heidene vir Israel aan, en in hfst.18 help ‘n goeie heiden vir Israel.  In hfst.7-17 red God gedurig sy volk.  In hfst.18 eindig God se redding op ‘n hoogtepunt as Hy ‘n heiden red.

Moses het respek gehad vir sy skoonpa.  Hy het hom op die tipiese Midde-Oosterse manier gegroet:  hy het gebuig, hom gesoen, gevra hoe dit gaan, en hom in sy tent ingenooi (v.6-8).  Hy het vir Jetro vertel hoe die Here die plae gestuur het, die Rooisee oopgekloof het, vir sy volk manna, kwartels, en water gegee het, en die Amalekiete verslaan het.  Jetro het God geprys as die grootste God onder al die gode (Psalm 95:3).  Hy het dié belydenis met ‘n offer verseël en ‘n verbondsete saam met Moses, Aäron, en die ouderlinge van Israel gehad (v.8-12, vgl. 24:11, Genesis 31:54).

Die volgende oggend het Jetro gesien hoe Moses die hele dag moes sit om die volk se probleme aan te hoor en uit te sorteer.  Hy het vir Moses gesê dat hy homself én die volk op dié manier sou uitput.  Hy kon nie alleen ‘n hele volk se probleme aanhoor nie, en die volk kon nie die hele dag in die son staan met net een ‘toonbank wat oop is nie’ (v.13-18).  Hy moes leiers oor ‘n 1000, 100, 50, en 10 aanstel om hom te help.  Die leiers moes manne wees wat nie mense gevrees het of omkoopgeld sou vat om so die gereg te verdraai nie.  Hulle moes God vrees en betroubaar wees.  Moses kon dan die groot sake hanteer (v.19-26, 12, vgl. Handelinge 6:3).  Toe Moses dit klaar gedoen het, het Jetro teruggegaan Midian toe (v.27).

Soos God en Moses moet ons vreemdelinge liefhê (xenofilie).  Ek wil by jou aandring om moeite te doen met mense wat die kerk besoek – veral met predikers, sendelinge, en gelowiges van ander kerke of lande.  Groet hulle vriendelik en gesels met hulle.  Dink hoe jy sou voel as jy by ‘n vreemde kerk was, en niemand jou kom groet het nie.  Wees ook bereid om arm predikers en Christene van vreemde kerke finansieel te ondersteun.

Stel jou huis oop vir tee en etes.  Wees bereid dat gelowige vriende, familie, en vreemdelinge by jou huis oorbly:  “streef na gasvryheid” (Romeine 12:13).  Moenie net met jou gaste kuier, saam TV kyk en braai nie, maar bid en lees ook saam met hulle, vertel van God se groot werke in jou gesin, en nooi hulle saam kerk toe (v.8, 12).  Mense sê dikwels vir my:  ‘Ons sal nie Sondag in die kerk wees nie – ons kry familie.’

Daar is ‘n sekere sin waarin skoonfamilie ‘vreemdelinge’ is wat jou familie van buite af binnedring.  In dié hoosfstuk leer ons lesse oor hoe om liefde aan dié ‘vreemdelinge’ te betoon.

  • Jetro het erken dat sy dogter en kleinkinders eerste Móses s’n is, voordat hulle sýne is:  die huwelik is ‘n hegter verhouding as ‘n pa-dogter of oupa-kleinseun verhouding (v.2-6).  Moenie jou skoonkind se plek wil inneem nie.  Jou kinders staan nie meer onder jou gesag nie, maar het een geword met jou skoonkind (Genesis 2:24).
  • Respekteer mekaar (v.7).
  • Stel belang in mekaar se lewens (v.7).
  • Stel julle huise oop vir mekaar (v.7).  Moenie kla omdat jy hulle nie eintlik by jou huis wil hê nie:  “Wees gasvry [teenoor] mekaar sonder om te murmureer.” (1 Petrus 4:9).
  • Hou saam huisgodsdiens (v.8-12).
  • Wees besorg as jy sien dat jou skoonfamilie ‘n verkeerde rigting inslaan (v.18).  Wys hulle foute op ‘n sagmoedige wyse uit (v.17).  Wees nederig genoeg om die raad te aanvaar (v.24).

Hoekom moet ons vreemdelinge liefhê?  Twee redes staan uit:

[1] Jy was ‘n vreemdeling toe God in liefde na jou toe uitgereik het.  “Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ‘n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.” (23:9).  “Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland.” (Deuteronomium 10:19).

“[onthou] dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.  Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus… So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Efesiërs 2:12-13, 19).

[2] As ons vreemde gelowiges ontvang en liefhet, het ons Jesus lief:  “Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee… wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee…?  En die Koning sal antwoord en vir hulle sê:  Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Matteus 25:35, 40).

Hoe voel jy oor ons land:  oor die misdaad, korrupsie, Nkandla, standbeelde wat geskend word, die xenofobiese aanvalle?  Mag al hierdie dinge – veral die laasgenoemde – ons herinner dat ons vreemdelinge op die aarde is (Filippense 3:20, Hebreërs 11:10, 13-16).  Hierdie wildernis is nie ons tuiste nie; ons is oppad na die Beloofde Land toe.

’n Christen se doel vir 2015

Runner at finish line

Omtrent 15 jaar gelede het een van my dosente dié storie vertel.  Toe hy ‘n jong pa was het hy sy kinders een Vrydag na skool opgelaai.  ‘Waarheen wil julle ry?’ het hy gevra.  Hulle moes eenvoudig ‘links, regs of reguit’ sê.  Hulle klere was in die kattebak.  Hy het êrens in Mpumalanga geeïndig toe dit donker was.  Daar het hulle vir die nag by ‘n gastehuis ingeboek.

 

Party mense se lewens lyk so:  hulle het nie die vaagste benul waarheen hulle oppad is nie.  In Filippense 3:14 het Paulus ‘n doel gehad en geweet waarheen hy oppad is.

 

Vergeet die verlede en strek vorentoe (v.14a)

Paulus het reeds God se verlossing gesmaak (v.8-9), maar het geweet dat dit nog nie voltooi was nie.  Sy liggaam moes nog verlos word (v.10-11).  Soos alle volwasse gelowiges het hy nie gedink hy is volmaak of het die einde bereik nie (v.12-13, 15).  Ongelukkig is daar vandag gelowiges wat dink hulle is reeds volmaak.  My vriend het vertel van ‘n man in sy gemeente wat so dink.  Indien Paulus so gedink het sou hy nie verder gehardloop het nie.  Hy sou soos my sussie gewees het.  My laerskool se atletiekbaan was nie ‘n gewone 400m baan nie, maar was 300m lank.  Toe my sussie eenkeer die 1200m gehardloop het, het sy dit vergeet en na drie rondtes opgehou.  Drie atlete het haar verbygesteek.  ‘n Baanbeampte het vir haar gesê om nog ‘n rondte te hardloop.  Sy het die groep ingehaal en tweede gekom.  As sy nie gestop het nie kon sy eerste gekom het.  Enigiemand wat dink hy is volmaak sal ophou om te hardloop en nie die prys wen nie.

 

Paulus het geweet dat hy nog nie volmaak was nie.  Hy die verlede vergeet en vorentoe gestrek.  Hy was nie soos kinders by ‘n kleuterskool sportbyeenkoms nie.  Het jy al gesien hoe hulle hardloop?  Om seker te maak hy is eerste kyk Piet agtertoe.  Jan waai vir sy ouers en grootouers langs die veld.  Sarie kyk vir haar voete en skaduwee om te sien hoe vinnig sy hardloop.  Hulle kyk orals behalwe vir die wenpaal.  Moenie so hardloop nie.  Vergeet 2014 en strek jou uit na 2015.  Jesus het gesê:  “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.” (Lukas 9:62).  Om die verlede te vergeet beteken nie dat jou geheue verloor nie.  Dit beteken eerder dat jy nie in die verlede lewe, sodat dit jou terughou nie.

 

[1] Vergeet 2014 se selfgeregtigheid.  Voor sy bekering het Paulus baie gehad om op te roem, maar toe hy Jesus ontdek het hy besef dat dit drek was (v.4-7).  As jy op jou eie geregtigheid staatmaak sal jy jouself bedrieg en dink dat jy die wenpaal bereik het.

 

[2] Vergeet 2014 se mislukking en sonde.  As jy gedurig daaraan dink sal dit jou terughou in die wedloop, sodat jy dink:  ‘Dit help nie eers ek probeer nie?’  Bely jou sonde en bekeer jou daarvan.  “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:9).  As jy dit gedoen het moet jy daarvan vergeet.  Is dit reg dat jy die sonde wat God vergeet het onthou?  “aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.” (Hebreërs 10:17).

 

[3] Vergeet ander se sonde teen jou in 2014.  Bitterheid sal jou vergiftig; dit sal maak dat jy aanhoudend omkyk en nie vorentoe beweeg nie.  Ander se sonde teen jou is nie reg nie, maar God is soewerein daaroor en sal dit vir die goeie uitwerk:  “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is” (Genesis 50:20).  Vergewe ander mense soos God jou vergewe het (Efesiërs 4:32).

 

[4] Vergeet 2014 se geestelike hoogtepunte.  Ek sê nie jy moenie daaroor moet bly wees nie.  Ek bedoel eerder dat 2014 se geestelike fiksheid nie stamina kan gee vir 2015 se geestelike wedloop nie.  Sorg elke dag dat jy geestelik fiks bly.  Iemand wat op 2014 se hoogtepunte fokus sal wens vir gister en vergeet om vorentoe te strek.  Salomo sê:  “Moenie sê nie:  Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie.” (Prediker 7:10).

 

[5] Vergeet 2014 se bekeringsdatum.  Dié waarskuwing gee ek nie vir mense wat hulle sonde haat en op Jesus alleen vertrou nie.  Ek gee dit vir mense wat staatmaak op ‘n bekeringsdatum en nie op Jesus nie.  Sulke mense glo hulle gaan hemel toe omdat hulle ‘n sondaarsgebed gebid het – al lewe hulle soos die duiwel.  Vergeet van jou bekeringsdatum.  Kyk na die gekruisigde en opgestane Jesus.  Bekeer jou van jou sonde en moenie op jouself vertrou nie.

 

Jy kan slegs na die wenpaal gryp as Jesus jou gegryp het (v.12, 14).  Het Hy?  Is jy bewus van ‘n sondeoortuiging in jou hart?  Is jy aangegryp deur sy sterkte, heerlikheid, kruisdood en vergifnis?  Besef jy dat Hy jou enigste hoop is; dat jy sonder Hom in jou sonde en onder sy oordeel sal sterf?  As jy dít besef het moet jy hardloop om te wen.  Strek vorentoe in 2015.  Streef om God en sy Woord beter te ken, om meer getrou en gehoorsaam te wees.  Moenie ‘n kind bly nie.  Word ‘n jong man en ‘n vader (1 Johannes 2:12-14).  Doen wat die Bybel sê:

 

“Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.  En dit sal ons doen as God dit toelaat.” (Hebreërs 6:1-3).  “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” (2 Petrus 3:18).

 

Jy kan nie die horlosie terugdraai nie.  Maar jy kan die tafels draai, sodat dit in jou guns tel.  As jy vashou aan die verlede sal dit jóú vashou en terughou in die wedloop.  In die Christelike wedloop kan jy nie stilstaan nie.  Iemand wat nie vorentoe gaan nie beweeg agtertoe.

 

Hardloop om te wen en dink aan die prys (v.14b)

Elke keer as ek in ons kerk preek kies ek vooraf ‘n woord wat die kinders moet tel.  Die kind wat die naaste aan reg is kry twee Mini Fizzers en die res een.  As iemand nie lus is vir ‘n lekker nie dan luister hulle nie na die preek nie.  Ek het een Sondag gesê dat die wenner ‘n slab sjokolade kry.  Jy kan raai dat almal op dié Sondag getel het.  So is dit in die Christelike wedloop.  As jy weet dat daar ‘n groot beloning wag help dit jou om te volhard, selfs wanneer jy moeg is.

 

Paulus het die doel nagejaag soos die verkeerspolisie ‘n oortreder agterna sit en vervolg tot hulle hom gevang het.  As die beloning klein was sou hy gestop het.  Die feit dat die prys oneindig keer groter as die pyn was, het hom gedryf en gemaak dat hy die pyn verduur.  Die Bybel sê:  “die evangelie van die koninkryk van God [word] verkondig, en elkeen dring met geweld daarin.” (Lukas 16:16).  “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.  Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” (2 Timoteus 4:7-8).  “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Hebreërs 12:2).

 

Wat is die prys?  Die hoë roeping van God om volmaak te wees soos Jesus en vir ewig die heerlikheid van die hemel in Hom te geniet.  Hy het ons “tot sy koninkryk en heerlikheid roep.” (1 Tessalonisense 2:12).  Ons is “deelgenote van die hemelse roeping” (Hebreërs 3:1).  “ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” (1 Johannes 3:2).  Sê jy van die prys:  ‘Dit trek my nie aan nie’?  Is die rede nie omdat jy ‘n swak kennis van Jesus het en nie regtig weet hoe dit in die hemel sal wees nie?

 

Word jy versoek om op te gee en af te dwaal?  Kry soveel as moontlik inligting oor die prys, totdat dit jou opgewonde maak en dryf om te volhard.  Oordink hoofstukke oor wie Jesus is (soos Hebreërs 1).  Dink aan hoe jou nuwe liggaam gaan lyk (3:21, 1 Korintiërs 15:42-44).  Bestudeer en oordink Openbaring 21-22 totdat jy weet hoe dit in die hemel sal wees.  Dissiplineer jouself om te oefen.  Lees jou Bybel in 2015.  Bid meer.  Wees meer getrou by die kerk.  Raak ontslae van sonde in jou lewe.  Is daar dinge wat jou terughou om meer effektief te hardloop?  Lê dit af.  Hardloop om te wen.  Die Bybel sê:

 

“Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie?  Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.  En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike.  Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie.  Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.” (1 Korintiërs 9:24-27).

 

“oefen jou in die godsaligheid.  Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.” (1 Timoteus 4:7-8).

 

“Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebreërs 12:1).

 

Moenie tevrede wees met ‘n halfhartige poging nie.  As jy met hout, hooi en stoppels bou sal jy teleurgesteld wees.  “En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (1 Korintiërs 3:12-15).

 

Dis hartseer dat baie Christene sterk begin maar stadiger hardloop as hulle oud word en naby die einde kom.  Ouer gelowiges moet sterk eindig, baie vrug dra (Psalm 92:15), en ‘n voorbeeld stel vir die jonges.  Is jy jonk?  Moenie sê dat jy nie belangstel om te hardloop, dat jy later sal begin nie.  Hoe weet jy of daar vir jou ‘n ‘later’ sal wees?

 

Hoekom is dit belangrik om te volhard?  Want volharding wys of jy waarlik gered is of nie.  “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:14).  “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” (1 Johannes 2:19).

 

Die Engelse gesegde lui:  ‘Jack of all trades, master of none.’  John MacArthur se pa het vir hom gesê:  ‘Baie mense kan baie dinge goed doen.  Min mense kan een ding uitstekend doen.  Kies vir jou een ding en doen dit uitstekend.’  Doen dit in 2015 en werk met alles in jou om die prys te behaal.