Wat sê die Bybel oor bloedlyn vloeke?

Generational curse

In April 2012 het ek ‘n artikel oor bloedlyn vloeke geskryf en dit op die internet geplaas.[1]  Oor die afgelope vyf jaar was daar byna 7000 mense wat op die artikel afgekom het.  In September 2016 het ‘n vriend van my dit op hulle gemeente se Facebook-blad gedeel.  Binne ‘n kwessie van ‘n paar dae, het meer as 3000 mense die artikel ‘besoek’ (baie van hulle het dit seker nie gelees nie).

 

My punt is nie om te sê dat die artikel besonders is nie, maar dat talle Afrikaners vrae het oor die onderwerp. En dit is juis om hierdie rede wat ek besluit het om die saak deeglik te ondersoek.  Voordat ons egter by die Bybelse lering uitkom, moet ons verstaan wat mense bedoel wanneer hulle van bloedlyn vloeke praat.  ‘n Illustrasie sal help.

 

Anjé het ‘n rekord van gebroke verhoudings op haar kerfstok. Ferdi is gedurig siek – die dokters kan nie agterkom wat fout is nie.  Gert is ‘n slaaf van seks en drank.  Dit maak nie saak hoe hard Jan probeer nie, hy bly arm.  Arrie is lui en maak ook lui kinders groot.  Riana het ‘n ernstige humeur probleem.  Fiona se sielkundige sê dat sy ‘n lae selfbeeld het.  Eddie is vasgevang in pornografie.

 

Wat maak dat hierdie mense nie kan losbreek uit die net van hulle sonde nie? Volgens sommige is dit die sondes van hulle voorouers, of te wel bloedlyn vloeke.  Die kinders word gestraf vir dít wat hulle pa’s, oupas en oupagrootjies gedoen het.  Die gevolg is dat Gert se kinders vir drie of selfs meer geslagte aan seks en drank verslaaf sal wees.  Na alle waarskynlikheid is dit demone wat hiervoor verantwoordelik is.

 

Om die patroon te breek, sal een of meer van Gert se familielede vir bevryding moet gaan. Dit gebeur gewoonlik deur ‘n bevryder wat die verslaafde persoon lei om ‘n paar stappe te volg.  Hy sal bv. vir Gert se kleindogter sê om:

 

  1. Haar eie en haar voorouers se sondes so spesifiek as moontlik te bely.
  2. Haar voorouers te vergewe.
  3. Alle sondige geestesbande met haar voorouers te breek.
  4. Die familie-demoon se vloek te breek deur verbaal en in Jesus se Naam vir hom te sê om weg te gaan.
  5. Haar ten volle aan die Here te wy.

 

Wat het die Bybel hieroor te sê? Die term ‘bloedlyn vloeke’ kom nie in die Bybel voor nie.  Maar daar is letterlik honderde tekste wat oor die voor- en nageslagte se sondes handel.  Ek het die tekste opgesoek wat woorde soos geslag, nageslag, kroos, nakroos, voorvaders, kindskinders en soortgelyke terme bevat.  Omdat daar so baie is, is dit doodeenvoudig nie moontlik om in een preek elke teks te bespreek nie.  Dus het ek besluit om die slotsom van my ondersoek onder drie hoofde op te som.

 

God straf nie kinders vir hulle ouers se sondes nie

Het jy al gehoor van ‘n pa wat al sy kinders pak gee as een van hulle stout was? Ek het.  Die Here is nie so nie.  In Dt.24:16 sê Hy:  “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.”

 

In Esg.18 sê die profeet dat pa’s regverdig of goddeloos kan wees, terwyl hulle kinders andersom is. Om saam te vat sê Esegiël:  “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.” (Esg.18:20).

 

‘Maar wat van tekste soos Eks.20:5?’ wil iemand weet. In dié teks sê die Here dat Hy “die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat [Hom] haat”.

 

Let op dat woorde soos ‘vloek’ en ‘demoon’ glad nie eers in die vers voorkom nie. In die konteks gaan dit oor ouers wat hulle kinders geleer het om afgode te dien, en sodoende die Here te haat.  En dit was as gevolg hiervan dat die Here (nie ‘n demoon nie!) die pa’s en hulle kinders gestraf het.

 

Die kinders was dus nie onskuldig nie. Dit is nie asof die Here sy gehoorsame kinders vir hulle voorouers se sondes gestraf het nie.  Trouens, in die volgende vers sê die Here Hy “bewys barmhartigheid aan duisende van die wat [Hom] liefhet en [sy] gebooie onderhou.” (Eks.20:6).  As die kinders gehoorsaam was en nie hulle ouers se slegte voorbeeld gevolg het nie, sou die Here sy liefde aan hulle bewys het.  Anders gestel:  as hulle v.6 gedoen het, sou v.5 nie gebeur het nie.

 

Wie sal durf om op grond van Eks.20:6 te sê dat ‘n kind altyd heilig en regverdig sal wees, omdat sy pa en oupa die Here gedien het? Hoekom sê mense dan op grond van Eks.20:5 dat ‘n kind met pedofilia ‘gestraf’ sal word, omdat sy oupa kinders gemolesteer het?  Lees gerus die rekord van Juda se konings om te sien dat kinders nie noodwendig in die strik van hulle ouers se sondes beland nie.

 

Agas was ‘n slegte koning wat afgode gedien het (2 Kron.28:22). Sy seun Hiskia was baie getrou aan die Here (2 Kron.29:1-2).  Hiskia se seun Manasse was seker die slegste koning ooit, maar het later tot bekering gekom (2 Kron.33:1-20).  Sy seun Amon was so sleg soos hy, maar anders as sy pa het hy hom nie bekeer nie (2 Kron.33:21-25).  Amon se seun Josia was ‘n uitstekende koning (2 Kron.34:1-2).  Wat sy seuns betref, is ‘rubbish’ die beste manier om hulle te beskryf (2 Kron.36).

 

Weereens is dit duidelik dat die Here nie kinders vir hulle ouers se sondes straf nie. John Piper sê:  ‘no innocent child has ever been punished for a father’s sins; only guilty children are punished and are guilty of the very sins that their fathers sinned.’[2]  As jy dan op ‘n teks afkom waar dit vir jou lyk of die Here ‘n kind vir sy pa se sonde straf, moet jy ten minste twee dinge onthou.

 

[1] Elke teks het ‘n konteks. As jy die verse noukeurig lees, sal jy sien dat die kinders hulle ouers se verkeerde voorbeeld nagevolg het, en dat dit die rede was hoekom die Here hulle gestraf het.  Kom ons vat vir Manasse as ‘n voorbeeld.  In 2 Kon.21:10-15 het die Here gesê Hy gaan Jerusalem oordeel vir die sondes wat Manasse daarin gedoen het.  Dié wat flink dink sal besef dat Manasse nie die biologiese pa van die hele Jerusalem was nie, en dat die Here se straf daarom nie ‘n bloedlyn vloek kon gewees het nie.

 

Verder leer 2 Kon.21:16 vir ons dat die volk Manasse se bose voorbeeld gevolg het. Soos reeds hierbo gewys, het Manasse hom bekeer.  Omdat die volk haar egter nie van hierdie sondes bekeer het nie, het die Here haar gestraf.  Dit geld ook vir ander voorbeelde, waarin die Here sy volk en haar nageslag gestraf het (bv. Dt.28:45-46, 58-59, Mt.27:25).  As die nageslag hulle bekeer het, sou die Here hulle nie gestraf het nie (Hd.3:19).

 

[2] Die Here sal jou kwalik neem as jy soos Job se vriende dink. Moenie soos hulle wees en vergeet dat slegte dinge met opregte en toegewyde gelowiges kan gebeur nie (Job 1:1, 8).  Volgens Job 42:7 was die Here kwaad vir hulle; hulle het nie die waarheid oor Hom gepraat soos Job nie.  Hulle het o.a. gesê dat die Here Job vir sy sonde vervloek het, en dat dít die rede was hoekom sy kinders gesterf het (5:3-4, 8:4, 18:19, 27:14, 21 vgl. 1:18-19).

 

Job het dit nie aanvaar nie, maar het vir hulle gesê: “You claim God punishes a child for the sins of his father. No!  Let God punish the sinners themselves; let him show that he does it because of their sins.” (Job 21:19, Good News Bible). Moet dan nie vir iemand sê dat die Here haar vir haar ouma of oumagrootjie se sondes straf nie.

 

Miskien wonder jy: ‘Maar wat van Bybelse voorbeelde waarin die kinders nie gesondig het nie, en tog a.g.v. hulle ouers se sonde gesterf het of erg gely het?’  Dit bring my by die volgende punt.

 

Ouers se sondes het ‘n negatiewe invloed op hulle kinders

Ons moet oppas dat ons nie die baba van die negatiewe invloede met die vuil badwater van bloedlyn vloeke uitgooi nie. Hier is dit baie belangrik dat ons ‘n Bybelse balans handhaaf.  ‘n Paar voorbeelde sal help om die punt duidelik oor te dra, en om te wys dat ouers se sonde ‘n reuse invloed op hulle kinders het.

 

As Marco en Rika kwaai vloek, gaan hulle kinders waarskynlik hulle voorbeeld volg. En as Ken probleme met sy vuiste uitsorteer, gaan sy seuns tien teen een in húlle huwelike sy voorbeeld volg.  Sp.22:24-25 wys vir ons dat ‘n kort humeur aansteeklik is.

 

Ons kan dit nie ontken dat ‘n ouer se voorbeeld sy kinders sterk beïnvloed nie. In Gn.37:3 sien ons bv. dat Jakob vir Josef voorgetrek het, net soos wat sý ma hóm voorgetrek het (Gn.25:28).  Op hierdie punt moet jy jouself afvra of jy regtig wil hê jou kinders moet soos jy wees; wil jy hê hulle moet jou voorbeeld volg?

 

Kinders dra ook baie keer die gevolge van hulle ouers se sonde.  Baba Karien kry VIGS, omdat haar swanger ma immoreel was.  A.g.v. Gehasi se sonde het die Here hom gestraf sodat hy melaats geword het, en deur sy gene is dit ook aan sy kinders oorgedra (2 Kon.5:27).  Klein Ben sterf in ‘n motorongeluk, omdat sy pa dronk bestuur het.  Rita en Kobus het nie kos om te eet nie, omdat hulle ouers die geld op dwelms gemors het.

 

Dikwels oes ons nasate die gevolge van die sonde wat ons gesaai het. Die groot les is dat sonde nooit net ‘n persoonlike saak is nie, en dat dit dié wat ná ons kom ernstig beïnvloed. Hierdie invloed versprei nie net na ons kinders toe nie.  Al weet ons dit nie altyd nie, affekteer dit ons geestelike familie (Jos.7, 1 Kor.5:6, 12:26).  Dit is veral waar as ons in ‘n posisie van leierskap staan.

 

Dink maar aan Jerobeam die seun van Nebat, wie se afgodery talle konings van Israel beïnvloed het, sodat die land daardeur tot ‘n val gekom het (1 Kon.12:25-33, 15:26, 34, 16:2, 19, 26, 31, 2 Kon.10:31, 13:2, 11, 14:24, 15:9, 18, 24, 28, 17:21-23). Partykeer raak dit so erg dat ‘n hele nasie deur ‘n leier se sonde beïnvloed word, sodat die meeste mense uiteindelik sy voorbeeld volg.  Ons kan as’t ware van ‘n kulturele sonde praat (Tit.1:12).

 

Dalk wonder jy oor voorbeelde waarin die Here gesê het dat Hy a.g.v. een man se sonde ‘n hele nageslag sou straf: Eli, Dawid en Joab se nageslag sou met die swaard doodgemaak word (1 Sm.2:33, 3:13, 2 Sm.12:10, 13, 1 Kn.2:33).

 

Sover my kennis strek kon nie een van hulle die gevolge van hulle sonde omgekeer het nie; bevryding sou nie gehelp het nie. Selfs toe Dawid hom bekeer het, vergewe is, en ernstig gevas het, het die Here nie die gevolge van sy sonde verwyder nie (2 Sm.12:13, 16).

 

Wat die dood van sy kind betref kan ons ook nie sê dat dit ‘n bloedlyn vloek was, waarin die Here die kind vir sy sonde gestraf het nie.  Hoe is dit ‘n straf as 2 Sm.12:23 vir ons aandui dat die kind hemel toe is?

 

Maar is 2 Sm.21 nie die perfekte voorbeeld van ‘n bloedlyn vloek nie? In Jos.9:15 het Josua en die leiers van Israel ‘n verbond met die Gibeoniete gesluit om hulle nie dood te maak nie.  Saul het egter die verbond gebreek en die Gibeoniete doodgemaak.  Toe Saul al dood was, het die Here sy sonde onthou en ‘n droogte oor die land gestuur.  Twee van sy seuns en vyf van sy kleinseuns moes gehang word, alvorens die Here die volk se gebede vir reën verhoor het.

 

As leier het Saul die volk verteenwoordig, en daarom het God die volk vir hierdie sonde verantwoordelik gehou.  Sekerlik was Saul nie alleen hierby betrokke nie.  Die volk moes dus dinge reggestel het, voordat die Here reën kon gee.  Wat Saul se nasate betref kon hulle nie onskuldig gewees het nie, aangesien God self gesê het dat kinders nie vir hulle ouers se sondes gestraf sal word nie (Dt.24:16, 2 Kon.14:5-6, Esg.18:20).

 

Jou kinders sal net onder die Here se oordele beland as hulle Hom haat en hulle ore vir sy gebooie toedruk. Wys daarom vir hulle die regte voorbeeld en sê vir hulle wat die Here van hulle verwag (Gn.18:19, Dt.6:4, Ps.78:3-8).  Moenie nalaat om huisgodsdiens te doen nie, en kom ook in die gewoonte om jou kinders op Sondae onder die lering van God se Woord te bring.  As jy dit reg doen is die kanse goed dat jy deel van die Bybelse statistiek word, sodat jy en jou hele gesin tot bekering sal kom (Sp.14:26, 20:7, Jh.4:53, Hd.10:2, 11:14, 16:15, 30-34, 18:8, 1 Kor.1:16, 16:15).

 

Jesus het reeds die vloek gebreek vir elkeen wat in Hom glo

‘n Man en vrou was briesend toe hulle my vorige artikel oor bloedlyn vloeke gelees het. Die man het gesê dat hy vir almal gaan vertel dat ek ‘n vals leraar is.  Dis byna of hy wou gehad het eyhêdaar moet ‘n bloedlyn vloek oor hom wees.  In sy woede kon hy nie die goeie nuus van Jesus se kruisdood raaksien nie.  Kom ek verduidelik wat ek bedoel.

 

Die enigste ‘bloedlyn vloek’ in die Bybel het gekom deur die sonde van Adam, sodat al sy kinders met ‘n sondige natuur gebore is (Ps.51:7, Rm.5:12, Ef.2:3). En a.g.v. ons sonde, is alle mense onder God se vervloeking (Gal.3:10).  Toe Jesus egter aan die kruis gesterf het, is Hy in ons plek vervloek en het Hy ons van die vloek bevry:  “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe:  Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang” (Gal.3:13).

 

Die vloeke van Lv.26, Dt.27-28 het dus nou nie meer ‘n houvas op dié wat hulle bekeer en op Jesus vertrou om hulle te red nie. Hulle hoef nie boete te doen vir hulle eie sondes, of vir die sondes van hulle voorvaders by wie hulle dit geleer het nie (Lv.26:39-40, Neh.9:2, Jer.14:20, Dn.9:16).  Deur Jesus se kruisdood is daar geen sonde wat ‘n houvas op hulle het nie.  John Piper skryf:  ‘nobody is trapped in anybody’s sin — their own or someone else’s — because of the cross… Christ has paid every debt and broken every curse. ‘[3]

 

Jesus het ons vrygekoop van die nuttelose lewe van sonde wat die voorvaders vir ons geleer het: “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pt.1:18-19).

 

Soms kyk ons vas in die Here se straf wat tot in die derde en vierde geslag is (Eks.20:5), en mis ons sy liefde wat tot in die duisendste geslag is (Eks.20:6). Ek is bevrees dat bloedlyn vloeke gans te veel Christene se aandag afgetrek het van die seën wat God in Christus aan hulle belowe het:  “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus… sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus” (Ef.1:3, Gal.3:14).

 

Dalk het ons só in bloedlyn- en ander vloeke begin vaskyk, dat ons nie eers weet dat die Here se seën in die Nuwe Testament tien keer meer genoem word as sy vervloeking nie (in die Ou Testament is dit twee keer soveel). Ons het so bang geword vir vloeke, dat ons nie meer raaksien dat byna elke brief in die Nuwe Testament afgesluit word met ‘n seëngroet nie.

 

Hierdie ongesonde fokus op bloedlyn vloeke het ook gemaak dat mense nie die volle verantwoordelikheid vir hulle eie sonde aanvaar nie. Soos Adam sê hulle dat dit iemand anders se skuld is.  En omdat hulle ander blammeer en nie glo dat hulle eie sonde die hele probleem is nie, is Jesus se kruisdood en opstanding nie vir hulle die volkome oplossing om hulle te bevry nie (Gal.1:4).

 

Vir hulle lê ‘n deel van die oplossing in hulle eie geheue om die voorvaders se sondes te onthou, en in die mag wat hulle oor demone het. As hulle egter Jh.8:36 onthou het, sou hulle nie vir maande en jare geglo het hulle is onder een of ander demoniese binding nie:  “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”

 

Nou ja, daar is baie tekste oor sg. ‘bloedlyn vloeke’ waarby ek nie eers uitgekom het nie – tekste soos Gn.9:25, Dt.23:2-8, Jes.14:20-22, Jer.2:9, 13, Mt.23:35-36, ens.  Maar as jy mooi na hierdie tekste kyk, sal jy sien dat dít wat ek hierbo geskryf het waar is.

 

Mense wat in bloedlyn vloeke glo laat my dink aan ‘n kind wat sê dat hy die hond se baas is. As hy egter vir sy maatjies wil wys hoe die hond vir hom luister, word dit duidelik dat die hond eintlik sý baas is.

 

Op dieselfde manier sê die mense wat in bloedlyn vloeke glo dat hulle die mag het om familie-demone te bind. Maar bloot die feit dat hulle dink daar is ‘n bloedlyn vloek in die familie, wys dat hulle eintlik ‘n slaafse vrees vir die duiwel het.  Maar volgens Kol.1:13 is dit heeltemal onnodig, omdat God “ons verlos het uit die mag van die duisternis”.

 

[1] In daardie artikel het ek bloedlyn vloeke, asook vloeke in die algemeen hanteer. Ek het nou ‘n baie dieper studie oor die onderwerp gemaak en twee aparte artikels geskryf.  Die artikel wat handel oor vloeke in die algemeen se titel is: Het ons die mag om lewe en dood te spreek?

[2] http://www.desiringgod.org/interviews/can-my-life-be-plagued-by-generational-sins-hexes-or-curses

[3] Ibid

Advertisements

Het ons die mag om lewe en dood te spreek?

Speaking life and death

Oor die afgelope vyf jaar het hierdie lering populêr geword onder Afrikaners. Juanita du Plessis sing bv.:  ‘Ek spreek lewe, ek spreek lewe.  Want elke woord uit my mond het krag – deur die bloed van Jesus.’[1]  Gretha Wiid skryf:  ‘O, Here Jesus, help my dat ek lewe sal spreek… Wys my asselbief waar ek dood gespreek het oor my eie lewe, my man, my kinders en ons toekoms.’[2]

 

Ek sê nie dat almal wat hierdie lering glo ongered is nie (alhoewel baie van hulle sekerlik nie die Here ken nie). Ek glo dat ware Christene mislei kan word.  En juis om dié rede moet ons soos goeie Bybelstudente nie alles wat mense in ‘Jesus se Naam’ sê en doen vir soetkoek opeet nie (Mt.7:22).  Ons moenie hiper-krities veroordeelend wees nie (Mt.7:1-5), maar ons moet wat mense sê aan die Skrif meet (Hd.17:11).  Daarom moet ons ook luister na wat die Bybel oor hierdie saak te sê het.

 

Wat bedoel mense hiermee?

‘n Vriend van my het verlede jaar by mense gaan kuier. ‘n Vrou wat ook daar gekuier het, het gehoor dat hy hoes en het gevra wat fout is.  ‘Ek is siek,’ het hy gesê.  ‘Ek het ‘n verkoue wat ek net nie kan afskud nie.’  ‘Nee, jy is nie siek nie,’ het sy ingespring.  ‘Jy moet dit nie oor jouself uitspreek nie.’

 

Soos dié vrou, glo baie mense dat ons woorde die mag het om te skep, sodat dit wat jy die dinge is wat gebeur.  Jy moet dus nie sê:  ‘Ek weet nie of my oupa gesond gaan word nie… Ek sukkel om finansieel op my voete te kom… My kind is stout… Ek voel depressief’ nie.  Jy moet ook nie oor die toestand van ons land praat nie, want anders spreek jy dood en maak jy dit erger.

 

Jy moet eerder sê: ‘Ek is ryk… Ek is gesond… Ek is suksesvol… Ons land is besig om vooruit te gaan.’  Jy moet ‘n ‘positive confession’ maak.  ‘What I confess, I possess,’ is dié mense se slagspreuk.[3]  ‘Om net oor iets te bid is nie genoeg nie; jy moet dit hardop verklaar,’ sê hulle.  ‘Die dinge wat jy dan verklaar het, sal die Here doen.  Jou woorde is as’t ware die mag wat Hom beheer.  As die Here dit nié doen nie, het jy nie genoeg geloof gehad nie.’

 

Waarvandaan kom dit?

Essek William Kenyon het gelewe van 1867-1948. Hy was ‘n Amerikaanse ‘Free Will’ Baptiste leraar.  In 1892 het hy na Boston se Emerson College of Oratory toe gegaan.  Dié kollege het o.a. in New Thought metaphysics gespesialiseer.  Phineas P. Quimby was die vader hiervan.  Hy het geleer dat die mens ‘n god is, en dat hy homself deur korrekte denke van siekte en armoede kan bevry.[4]  Kenyon het Quimby se lering met sy eie teologie vermeng.  Kenyon het bv. gesê:

 

‘It makes no difference what the symptoms may be in the body. I laugh at them and in the Name of Jesus I command the author of the disease to leave my body.’[5]  En weer:  ‘You will seldom rise above your words.  If you talk sickness you will go to the level of your conversation.  If you talk weakness and failure you will act it.  You keep saying, “I can’t get work,” or “I can’t do this,” and your words react to your body.’[6]

 

Kenneth Hagin is sterk deur Kenyon se lering beïnvloed.[7]  Volgens sommige is Hagin die vader van die moderne ‘Word of Faith’ beweging.  Dalk is jy beter bekend met die name van dié wat deur Hagin beïnvloed is:  mense soos Benny Hinn[8], Kenneth Copeland, Creflo Dollar, Myles Munroe, Joseph Prince[9], Joyce Meyer[10], Joel Osteen[11] en ander soos hulle.

 

Quimby en Kenyon se lering is ook in die wêreld bekend gemaak deur mense soos Mary Baker Eddy, die stigter van Christian Science.  Volgens haar was siekte ‘n illusie wat deur geloof en gebed oorkom moes word.  Deur haar boek, The Secret, het Rhonda Byrne ook hierdie lering op ‘n populêre vlak toeganglik gemaak vir die man op straat.

 

Wat sê die Bybel?

Wat beteken Sp.18:21: “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet”?  As jy bitter woorde met jou mond gesaai het, sal jy die bitter vrugte daarvan moet eet.  Die mens wat met sy tong sondig, hang homself met sy eie woorde (2 Sm.1:16, Pd.10:12-14, Hos.10:13, Mt.12:36-37).  En dit is in dié opsig wat dood en lewe in die mag van die tong is.

 

Die tong kan ook diep wonde bring deur leuens, vleiery, geskinder, geskreeu en kwaadpratery (Ps.64:4, 140:4, Sp.7:5, 21, 12:18, 15:4, 25:18, Ef.4:29, Jk.3:6). Dieselfde tong kan ook mense opbou, verkwik, bemoedig en die goeie nuus van die lewe met hulle deel (Sp.10:11, 21, 13:14, 15:4, 16:24, Hd.5:20, 1 Ts.5:11).

 

Sp.18:21 het dan niks te doen met ons woorde wat dood en lewe skep nie, maar met ons woorde wat goeie of slegte gevolge kan hê.  Daarom moet ons nie te veel praat nie (Sp.10:19), maar mooi dink voordat ons praat (Sp.15:28).  Dit is ook die punt van Jk.1:19, 3:1-12.

 

‘Maar sê dat Jes.55:11 en Rm.4:17 nie dat ons woorde kan skep nie?’ Nee.  Beide verse praat van God se woorde en nie van ons s’n nie.  Sý woorde kan lewe en dood bring; ons s’n kan nie (Gn.1:3, Mt.11:21, Heb.11:3).  ‘Prosperity’ predikers sê vir mense dat ons gode is, en glo dus dat ons die mag het om lewe en dood te spreek.  Kenneth Copeland het bv. vir sy hoorders gesê:  ‘You’re all god.  You don’t have a God living in you; you are one!  You are part and parcel of God.’[12]

 

Dalk dink jy dat Mt.21:21-22 sê ons kan lewe spreek, omdat alles moontlik is vir die een wat glo. Die vers handel egter nie oor die woorde wat mense in die lug spreek nie, maar oor dít wat hulle in gebed vir die Here sê.  Dit gaan hier oor die almag van die God tot wie ons bid, en nie oor die almag van ons woorde nie.

 

Jesus se les is nie dat jy vir ‘n nuwe Ferrari kan bid, en dat die Hy dit vir jou sal gee omdat jy dit gesê het nie.  Om so te bid is selfsugtig, en daarom sal die Here dit nie beantwoord nie (Jk.4:3).  Die les is eerder dat ons volgens God se karakter en beloftes moet glo dat Hy in antwoord op ons gebede die onmoontlike kan doen (Ef.3:20).

 

Maar wat van vloeke?[13]

Karel is kwaad vir Janie. Hy is so bitter dat hy ‘n toordokter betaal om ‘n vloek oor haar uit te spreek.  Hy lees op oor voodoo magic en ander okkultiese praktyke, sodat hy nog vloeke op haar kan plaas.

 

Hoe moet ons hierdie senario Bybels evalueer? Wat Karel betref is dit duidelik dat hy ‘n ongelowige is:  “Hulle mond is vol vervloeking” (Rm.3:14).  Die Here beskou dit waarmee hy besig is in ‘n baie ernstige lig (Dt.18:9-14).  Job het gesê:  “As ek bly was oor die ongeluk van my hater en uitgejubel het toe onheil hom getref het; [ja, ek het my verhemelte nie toegelaat om te sondig nie, om deur ‘n vloek sy lewe te vorder nie!]” (Job 31:29-30).

 

Janie behoort aan die Here, en hoef daarom nie te vrees vir die vloeke wat Karel oor haar uitspreek nie. Dit mag miskien haar gevoelens seermaak, maar dit kan nie haar siel beskadig nie.  Toe koning Balak van Moab vir Bileam gehuur het om die Israeliete te vervloek, was hy onsuksesvol (Nm.22-24).  Die Bybel sê:

 

  • “Toe sê God vir Bíleam… jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.” (Nm.22:12).
  • “Kyk, ek [Bileam] het ontvang om te seën; en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie.” (Nm.23:20).
  • “Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie.” (Nm.23:23).
  • “Maar die HERE jou God wou nie na Bíleam luister nie; maar die HERE jou God het vir jou die vloek in ‘n seën verander, omdat die HERE jou God jou liefgehad het.” (Dt.23:5).

 

Verskeie tekste wys hoe hierdie beginsels ook op ons van toepassing is. As mense ons vervloek, sal die Here ons seën (Ps.109:28).  Hy sal die vloek omdraai, sodat dié wat dit uitgespreek het in die gat beland wat hulle vir ander gegrawe het:

 

“En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gn.12:3). “En die HERE jou God sal al hierdie vloeke op jou vyande en op jou haters lê wat jou vervolg het.” (Dt.30:7, vgl. Ps.109:17-18).  Toe Goliat vir Dawid in die naam van sy gode vervloek het, is doodgemaak en nie Dawid nie (1 Sam.17:43).

 

Vloeke wat oor God se kinders uitgespreek word is soos ‘n mossie of swaeltjie wat geen plek kry om te land nie – dit is oneffektief (Sp.26:2). In die 1800’s het drie toordokters probeer om ‘n sendeling genaamd John Paton met hulle towery en heksery dood te maak.  Hy het hulle uitgedaag om dit te doen, sodat hy kon wys dat sý God sterker is as hulle s’n.  Hulle was onsuksesvol.[14]

 

Omdat die Here ons nie vervloek het nie maar geseën het (Gal.3:14, Ef.1:3), kan niemand ons vervloek nie:  “Hoe sal ek vloek wie Gód nie vloek nie?  En hoe sal ek verwens vir wie die HERE nie verwens nie?” (Nm.23:8).

 

Die Here sal jou net vervloek as jy vir Jesus verwerp en in ongehoorsaamheid aan Hom lewe. Die punt is duidelik:  ‘n vloek is nie iets wat ander vir jou kies nie, maar iets wat jy self kies deur ongelowig en ongehoorsaam te wees:

 

  • “Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor—die seën as julle luister na die gebooie van die HERE julle God wat ek julle vandag beveel; en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die HERE julle God nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie.” (Dt.11:26-28, vgl. Dt.27-28).
  • “die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang” (Dt.30:19-20).
  • “As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom ‘n vervloeking wees!” (1 Kor.16:22).

 

Dit is laf om bang te wees vir die vloeke wat mense oor jou wil uitspreek, terwyl jy geen vrees het dat die Here jou sal vervloek as jy sy Seun, Woord en evangelie verwerp nie.  God se vervloeking is baie ernstig, omdat dit ewige gevolge het:  “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.” (Matt.25:41). Geen professionele bevryder kan die Here se vervloeking breek nie.  Net Jesus kan.  Hoe doen Hy dit?

 

In sy kruisdood het Jesus die vervloeking ontvang wat óns moes kry (Gal.3:13). Dié wat hulle dan van hulle sonde bekeer en op Hom vertrou om hulle te red, sal die seën van God se vergifnis en die ewige lewe ontvang, en nie in die hel vervloek word nie.  As die Here jou dan vergewe en bevry het, kan niemand dit omkeer en jou weer bind nie.

 

Ek is seker dat jy teen hierdie tyd agtergekom het dat dit die Here is wat mense vervloek, en nie die duiwel of bose mense nie.  Dit is nie te sê dat hulle nie sal probeer om jou te vervloek nie, maar dat hulle dit nie sonder die Here se toestemming kan doen nie.  En selfs as Hy vir hulle die toestemming gee sal Hy jou beskerm, sodat hulle jou nie kan beskadig nie (2 Sm.16:5-13, 10-11, Job 1:12, 2:6, Mt.10:28, Jh.10:28-29, Rm.8:31, 33, 38-39, 1 Joh.4:4, 5:18).

 

Maar kan gelowiges nie dalk ‘n vloek oor iemand uitspreek nie? Die Bybel leer vir ons om nie ons vyande te vervloek nie, maar om hulle te seën en vir hulle te bid (Lk.6:28, Rm.12:14).  In sommige gevalle kan ons die Here se vervloeking teen iemand aankondig (bv. 2 Kon.2:24, Jos.6:27-28, 1 Kon.16:34).  ‘n Bybelse berader kan bv. vir ‘n dronklap sê dat hy sy huis, gesin en besigheid gaan verloor as hy nie ophou drink nie (Sp.23:21).  Of hy kan vir ‘n immorele persoon sê dat sy VIGS gaan kry en sterf, indien sy haar nie bekeer nie (Sp.5:11, Gal.6:7-8).

 

Wat van indirekte vloeke?

 

[1] Die betekenis van name

Daar is dié wat glo dat jy jou kind se naam volgens die betekenis daarvan moet kies. Hulle redenasie klink so iets:  ‘As jy jou kind Kobus of Jaco noem (afgelei van Jakobus of Jakob), gaan hy volgens sy naam se betekenis ‘n bedrieër wees.  Jy kan tog nie dag in en dag uit vir iemand sê dat hy ‘n leuenaar is, sonder dat dit hom affekteer nie.’

 

Ek stem saam dat woorde ‘n mens kan seermaak, en dat ons nie mense met ons woorde moet afbreek nie. Maar dit beteken nie dat ons woorde die mag het om sonde of geregtigheid in iemand se karakter te skep nie.  Die Jode het gesê dat Jesus ‘n vraat en ‘n dronklap is, maar dit het Hom nie so gemaak nie (Mt.11:19).

 

Dit is nie waar dat alle Kobusse leuenaars is, of dat ‘n meisie wie se naam Alicia is – afgelei van die Grieks alētheia, wat ‘waarheid’ beteken – nie ‘n leuenaar kan wees nie. Dit is so dat verskeie Bybelkarakters se name hulle missie beskryf het.  Jesus beteken bv. ‘Verlosser’ en Abraham beteken ‘vader van ‘n menigte’.  God het egter vooraf hulle missie geken, en het daarom hierdie name vir hulle gegee.  Jesus het nie die Verlosser geword, omdat Josef en Maria sy Naam genoeg gesê het nie.  Hulle het eerder die Naam vir Hom gegee, omdat dit volgens God se bepaling sy missie sou wees (Mt.1:21).

 

Jy hoef dan nie bang te wees dat die betekenis van jou kind se naam sy karakter gaan bepaal nie. Die Here se genade, die manier waarop jy jou kind grootmaak, jou voorbeeld, en die invloed van ander mense gaan tot ‘n groot mate jou kind se karakter beïnvloed.  Die betekenis van sy naam gaan verseker nie sy toekoms bepaal nie.  Glo jy regtig dat die Here jou kind gaan seën of straf oor ‘n naam wat hy nie vir homself gekies het nie?

 

[2] Lewelose objekte

Ek het eenkeer met ‘n vrou gepraat wat gedink het dat die yster voëls in haar tuin vervloek is, en dat dít veroorsaak het dat haar man egbreuk gepleeg het. Ek sê nie dat dit aanvaarbaar is om Buddha beeldjies in jou huis te hê nie.  Maar hoe gaan jy die oorsprong van elke liewe item in jou huis bepaal?  Om te glo dat yster voëls vir mense se sonde verantwoordelik is, is belaglik.  Dit klink soos Eva wat die slang vir haar ongehoorsaamheid blammeer het.

 

‘n Man het my eenkeer gebel en gesê: ‘Kan jy my asb. kom help, omdat iemand ‘n vloek oor my en my gesin uitgespreek het?’  ‘Hoekom sukkel ons finansieel?’ het hy gesê.  ‘Dit is seker omdat my stupid skoonfamilie iemand gehuur het om vloeke oor ons uit te spreek.’  ‘Hoeveel rand spandeer jy per maand aan drank en sigarette?’ het ek gevra.  ‘Omtrent R2000,’ het hy gesê.

 

Ek is seker jy kry die boodskap. Ons kan nie ander mense se vloeke blammeer vir ons sonde nie.  Die manier om hierdie dinge op te los is nie om ‘n bevryder te bel sodat hy die vloeke kan breek nie, maar om in ware berou en bekering na Jesus Christus toe te draai.  “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak… As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Jh.8:32, 36).

 

Moet dan asb. nie in vrees lewe oor die skadelose speelgoed en ornamente wat jy in jou huis het nie (soos reeds gesê, moet jy nie opsetlik afgode en okkultiese dinge in jou huis hê nie). Wat saakmaak is dat jy die Here moet ken, omdat dit Hý is wat ‘n persoon se huis seën of vervloek:  “Die vloek van die HERE is in die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van die regverdiges.” (Sp.3:33).

 

Dalk wonder jy hoekom alles in jou lewe skeef loop? Dit mag wees dat jy nie die Here ken nie, en dat Hy jou vir jou ongehoorsaamheid vervloek (Dt.28:15-19, 20-68).  Dit mag ook wees dat jy die Here ken, en dat Hy jou tugtig (Heb.12:5-11).  In beide gevalle wil Hy hê dat jy jou sonde moet los en na Hom toe moet draai (Ps.32:1, 2 Kon.22:19-20).

 

Dalk is jy ‘n gelowige wat die Here getrou dien, maar dit gaan sleg met jou. Die Here wil nie hê jy moet dink dat Hy jou vervloek het, of dat Hy jou nie teen die duiwel en bose mense se vloeke kan beskerm nie.  Trouens, jou beproewing is waarskynlik ‘n seën van die Here om jou meer soos Jesus te maak (Lk.6:20-23, Rm.8:28-29, Heb.12:10-11, Jk.1:2-4).

 

Die slotsom van alles is dat die teologie van ‘lewe en dood spreek’ nie Bybels is nie, maar ‘n vermenging van bygelowige afgodery en die Bybel (byna soos die ZCC, maar net op ‘n ander vlak). Dit is ‘n vals godsdiens waarin die duiwel en die wêreld sterker is as die Here, en waarin die Here nie sy kinders kan beskerm nie.  Dit het tyd geword vir die kerk van Jesus Christus om ontslae te raak van hierdie lering.

 

[1] Juanita du Plessis – Ek spreek lewe (www.youtube.com)

[2] Wanneer ‘n vrou vir haar gesin bid (www.grethawiid.co.za)

[3] John MacArthur, Strange Fire, p.28.

[4] Ibid

[5] Ibid, p.276 n.53

[6] Ibid, p.29

[7] Ibid, p.30

[8] Die meeste mense weet dat predikers soos Hinn, Copeland, Dollar en Munroe hierdie dinge glo. Baie weet egter nie dat Prince, Meyer en Osteen dit glo nie.  Daarom het ek nie moeite gedoen om te wys dat die e.g. predikers dit glo nie.  Soek gerus op hulle webtuistes om te sien dat hulle dit glo.

[9] Speak and Step into God’s Supply (www.josephprince.org)

[10] How saying the right things can change your life! en List of Confessions by Joyce Meyer (www.joycemeyer.org)

[11] Change your Words, Change your World, Shape your Future (www.joelosteen.com)

[12] Strange Fire, p.11

[13] Ek hanteer glad nie bloedlyn vloeke in hierdie artikel nie. Ek het ‘n aparte artikel geskryf onder die titel: Wat sê die Bybel oor bloedlyn vloeke?

[14] John G. Paton, Missionary to the New Hebrides, pp.140-142