God se voorsienigheid in verlossing

Providence

Wat is voorsienigheid?  Ons verwar dit dikwels met wonderwerke.  Die volgende voorbeelde behoort die verskille duidelik te maak.

 

‘n Man in ons kerk het in Rhodesië gebly.  Sy skoonpa het met tabak geboer.  Op ‘n dag was dit verskriklik warm en droog.  Hulle het dringend reën nodig gehad, anders sou die tabak vrek.  Hy het gepleit dat die Here reën moes gee.  Binnekort het daar wolke gevorm en het dit nét op sy plaas en dié stuk land gereën.  In Eksodus 9:1-7 vrek die Egiptenare se vee deur pessiektes, terwyl die Israeliete se diere nie daardeur geraak is nie.  Dít is buitengewone voorsienigheid:  God werk deur die wette van die natuur, maar doen dit op ‘n besondere wyse.

 

Hoe verskil ‘n wonderwerk van buitengewone voorsienigheid?  In 2007 het ‘n kollega in die bediening ‘n beroerte gehad in die nag.  Hy is in die hospitaal opgeneem en vir vyf dae gemonitor.  Sy spraak het gesleep en sy korttermyn geheue is beskadig.  Sy linkerbeen kon nie oor die regter een kruis nie.  Hy het slegs 34% koördinasie in sy linkerhand gehad, teenoor 86% in die regterhand.  Hy het vir drie maande fisioterapie gekry.  In dié tyd het ‘n vriend na sy kantoor toe gekom om vir hom te bid.  Onmiddellik na sy gebed kon Brahm sy linkerbeen oor die regter kruis.  Hy normale funksie van sy linkerhand het daar en dan teruggekeer.  Die fisioterapeut het hom getoets.  Hy het 96% koördinasie in sy linkerhand gehad en 86% in sy regterhand.  Tot vandag toe is hy gesond, en is sy linkerhand sterker as sy regterhand.  In Eksodus 14 het God die Rooi See oopgekloof, sodat die Israeliete droogvoets deurgetrek het.  Dít is ‘n wonderwerk:  God werk sonder en bo-oor natuurlike wette.

 

My vriend moes ‘n pakkie oplaai vir iemand in sy gemeente.  Hy wou nie die ompad ry nie, maar het op nr. 99 besluit om dit tóg te doen.  Kort voor hy by Kliprivierrylaan verby is, het ‘n trok dwarsoor die snelweg gery.  As hy nie die ompad gery het nie, sou hy waarskynlik onder dié trok beland het.  Dié storie klínk buitengewoon, maar baie keer weet ons nie eers van die trok nie; ons weet nie eers dat die Here ons beskerm het nie.  Dít noem ons gewone voorsienigheid:  God beheer elke detail in die wêreld en in ons lewens.  Die Skrif sê:

 

  • “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?” (4:11).
  • “Want júlle het wel kwaad teen my bedink [deur my as ‘n slaaf te verkoop], maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” (Genesis 50:20).
  • “In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.” (Spreuke 16:33).
  • “Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?” (Spreuke 20:24).
  • “Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.” (Matteus 10:29-30).
  • “Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11).
  • “Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak—julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.” (Jakobus 4:13-15).

 

Dís die les in Eksodus 2:  God werk ook in die gewone – moet dit nie miskyk nie.

 

Moses word voorberei in Egipte (v.1-10)

In C.S. Lewis se boek, Prince Caspian, het die Telmarines ou Narnia oorgeneem.  Miraz het die koning doodgemaak en oor die land regeer.  Die koning se seun, Caspian, het Dr. Cornelius, ‘n half-dwerg, as leermeester gehad.  Hy en Caspian se oppasser het hom geleer oor die ou Narnia met sy pratende diere.  Terwyl Miraz veilig gevoel het, was ‘n weermag van Narnians besig om hulle voor te berei om Narnia terug te vat.  Hulle het vir jare weggekruip.  Miraz het niks vermoed nie.  Hy het gedink hulle het uitgesterf.

 

God is soms agter die skerms besig om verlossing vir sy volk te bewerk.  Hy werk wanneer ons dink daar is geen hoop nie.  Dis wat Hy in Eksodus 2 gedoen het.  Hoekom anders word sy Naam eers aan die einde van die hoofstuk genoem?

 

‘n Levitiese man en vrou het met mekaar getrou.  Die man se naam was Amram en sy vrou se naam Jogebed.  Hulle het reeds twee kinders gehad:  Miriam en Aäron (6:20, Numeri 26:59).  Toe is daar nóg ‘n seuntjie gebore.  Oh oh… ‘n seuntjie?  Wat van Farao se bevel dat seuntjies in die Nylrivier verdrink moet word (1:22)?  God en die baba se ouers het gesien dat hy mooi is (Handelinge 7:20, Hebreërs 11:23).  Volgens Hebreërs 11:23 het sy ouers hom vir drie maande lank in geloof weggesteek.  Wat sou dit beteken?  God moes vir hulle gesê dat Moses die volk sou verlos.  Hulle het hom dus weggesteek, omdat hulle God se belofte geglo het.

 

Toe hulle hom nie langer kon wegsteek nie, het hulle ‘n klein ark[1] van papirus gebou en dit waterdig gemaak deur dit met pik en teer te smeer (Jesaja 18:2).  Is dit nie ironies dat sy ma die mandjie in die Nyl gesit het nie:  die plek van dood (1:22) was vir Moses die plek van lewe?  Die Nyl god Hapi kon hom nie beskadig nie.  God het hom veilig gehou teen krokodille.  Sy sussie Miriam het langs die rivier geloop om te kyk of haar baba boetie veilig is.  Op ‘n dag toe kom bad die prinses by die rivier.  Dalk het sy ook gekom om vir Hapi te aanbid (7:15, 8:20).  Toe gebeur dit.

 

Die spanning kan in die werkwoorde gesien word:  ‘sien… stuur… haal… oopgemaak… sien die kind’ (v.5-6).  As daar iemand is wat die opdrag van 1:22 geken het, dan was dit die prinses.  Maar toe sy die baba sien huil, het sy hom jammer gekry.  Die prinses het vir Miriam gestuur om ‘n soogmoeder te kry.  Natuurlik het Miriam die baba se ma gaan roep.  So het dit gebeur dat Jogebed ‘n staatstjek gekry het om haar eie kind groot te maak.  Die baba het vir ‘n paar jaar by sy ma gebly (tot hy 10 was?) voor hy paleis toe is.  Daarna het die prinses hom as haar eie seun aangeneem (Handelinge 7:21).  So het Moses onder die moordlustige Farao se neus groot geword (1:22).

 

In die paleis het Moses die wysheid van Egipte geleer (Handelinge 7:22).  God was besig om hom voor te berei om later die eerste vyf boeke van die Bybel te skryf.  Hoekom was sy naam Moses?  Dié naam beteken uitgehaal, omdat hy uit die water gehaal is (Psalm 18:17).  Dis hý wat God se volk uit slawerny sou uithaal.

 

Wag jy vir die Here om jou te verlos; om ‘n geliefde uit hulle sonde te red?  Wag jy dat Hy die flou Suid-Afrikaanse kerk weer sal oprig?  Dink jy die Here is nie aktief besig nie, net omdat jy nie vuurwerke sien nie?  Moenie die gewone werk van die Heilige Gees minag nie.  Moenie sê:  ‘As daar nie herlewing is nie, beteken dit dat die Here nie werk nie.’  Het jy vergeet dat die Here ook werk wanneer ons in ons gewone dienswerk en prediking van die evangelie volhard?  1 Korintiërs 15:58 sê:  “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”

 

Betwyfel jy jou of iemand anders se bekering, omdat dit nie dramaties was soos Paulus s’n in Handelinge 9 nie?  Geen twee bekerings is presies dieselfde nie.  Nie almal het ‘n dramatiese bekering nie.  Party se bekering is soos Lidia s’n; soos ‘n stoofplaat wat stadig maar seker warmer word (Handelinge 16:13-14).  Ander se bekering is soos die tronkwag s’n; soos die kitshitte van ‘n gasstoof (Handelinge 16:25-34).  Is jy angstig oor God se werk in die kerk; oor die bekering van ‘n geliefde?  Die Gees se werk van wedergeboorte is onsigbaar soos die wind (Johannes 3:8).  Hoe weet jy of God nie nóú besig is om in die kerk of ‘n geliefde se hart te werk nie?

 

Wat sal gebeur as jy God se gewone werk miskyk?  Jy sal maklik moedeloos word en dink die Here het van jou vergeet.  Jy sal vergeet om Hom te prys.

 

Moses word voorberei in Midian (v.11-25)

‘n Tyd gelede het my vriend gevra wat my styl van bediening die meeste beïnvloed het.  Ek het nóg vriende gebel om uit te vind wat húlle bedieningstyl die meeste beïnvloed het.

 

Vir Jannie (die vriend wat die vraag gevra het) was dit sy verlede.  Hy het ‘n slegte verlede gehad, en selfs op ‘n tyd geglo dat hy teen die Heilige Gees gesondig het.  Dié ervarings het hom herinner waaruit die Here hom kom red het.  Dit het hom baie sensitief gemaak vir ánder wat ver verlore is, of dink dat die Here hulle nooit kan vergewe nie.

 

Vir Johan was dit sakgeld.  Sy pa het elke maand vir hulle R2 gegee en hulle verplig om dit te spaar.  Later het sy pa weer die geld ‘nodig’ gehad en dit teruggevat.  Dit het vir Johan gedwing om lekkers te verkoop.  So het hy tot R1000 per maand gemaak.  Hiérdie wysheid, beplanning en entrepreneurskap kenmerk vandag sy bediening.  As daar iemand is wat weet hoe om te beplan en uit te voer, dan is dit hy.

 

Vir Piet was dit ‘n verlede van drank en dwelms.  Hy bedien tans in ‘n blanke plakkerskamp.  Hy het medelye met mense wat in verslawing vasgevang is.  Hy glo dat God húlle kan red soos Hy hóm gered het.

 

‘God tailormakes a man for his ministry.’  Hy sit nie ‘n tandarts in ‘n B.Com klaskamer nie.  God het Moses vir 40 jaar in die woestyn in Midian voorberei, waar hy sy skoonpa se skape opgepas het (Handelinge 7:30).  Dít het Hy gedoen, omdat Moses vir 40 jaar Gód se skape in die woestyn sou ‘oppas’.

 

Toe Hy 40 jaar oud was, het Moses gaan kyk hoe dit met die Israeliete gaan (Handelinge 7:23).  Hy het onthou dat sy ma vir hom geleer het dat Israel sý volk was.  Daarom het hy geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word (Hebreërs 11:24).  Op dié dag het hy gesien hoe ‘n Egiptenaar een van sy mense slaan.  Hy het rondgekyk.  Hoekom het hy dit gedoen?  Miskien omdat hy bang was iemand sien hom.  Maar miskien het hy rondgekyk, omdat hy vir hulp gesoek het.  In ieder geval het hy die gereg in eie hande geneem (soos party Suid-Afrikaners doen as die polisie nie wil help nie).  Hy het die Egiptenaar doodgeslaan en in die sand begrawe.  Hy het gehoop die Israeliete verstaan dat God hulle deur hóm wil red (Handelinge 7:25).  Maar hulle het nie.  Hulle het hom verwerp, soos hulle met ál hulle leiers gedoen het:

 

  • “En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie. Is dit nie genoeg dat jy ons uit ‘n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?” (Numeri 16:12-13).
  • “En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.” (Matteus 21:34-39).
  • “Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het” (Handelinge 7:52).

 

Toe Farao hoor wat Moses gedoen het, wou hy hom doodmaak.  Moses het Midian toe gevlug.  Waar is dit?  Dis in die noord-westelike hoek van Saudi-Ababië, teen die Rooi See.  Moses het by ‘n put aangekom.  Sewe dogters van ‘n heidense priester, Reuel (Jetro), het hulle pa se skape opgepas.  Moses het hulle van die ander herders gered en water uit die put gehaal.  Ja, die baba wat uit die water gehaal is, het nou vir die heidene water uit die put gehaal.  Is dit nie tragies dat die heidene sy poging om hulle te red aanvaar het, maar dat sy eie volk hom verwerp het nie?  So sou dit deur die eeue wees, sodat Paulus van die Jode af weggedraai het na die heidene toe:

 

“Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê:  Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word.  Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene… Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê:  Julle bloed is op julle hoof.  Ek is rein.  Van nou af sal ek na die heidene gaan… Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.” (Handelinge 13:46, 18:6, 28:28).

 

Nie Egipte óf Midian was Moses se tuisland nie.  Hiér was hy ‘n vreemdeling.  Daarom het hy sy seun Gersom genoem.[2]  Soos sy vaders en alle gelowiges ná hom, was Moses ‘n vreemdeling in hierdie wêreld:  “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.  Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek.” (Hebreërs 11:13-14).

 

Na baie jare het Farao (Tutmose III) gesterf.  In hulle slawerny het God se volk na Hom toe uitgeroep.  God het hulle hulpgeroep gehoor en sy verbond met Abraham, Isak, en Jakob onthou (Genesis 15, 26, 28).

 

Wat leer ons uit hierdie verse?  Wanneer God lank vat om verlossing te bring moet ons leer om sy perfekte tydsberekening te vertrou.  Vertrou Hom wanneer…

 

  • Jy lank bid maar nie ‘n antwoord kry nie.
  • Jy vir jare wag dat God jou geliefdes red.
  • Jy geen groei in die kerk sien nie.
  • Jy nie hoop sien dat jy ooit die regte lewensmaat sal ontmoet nie.
  • Jy ‘n lang en moeilike beproewing moet deurmaak.
  • Jesus na 2000 jaar nog nie gekom het nie.

 

Jy sien geen antwoord, verandering, hoop, teken, of lig nie.  Maar wag geduldig op die Here.  As jy ongeduldig is sal dinge skeefloop.  Jy sal soos ‘n kind wees wat die groen perskes ryp wil druk.  Jy sal God se plek wil inneem en jouself wil uithelp.  Jy sal nie meer die Here vertrou nie.  Jy sal ophou om te bid en jou na afgode en palmlesers toe wend.  Jy sal jou ongeredde geliefde wil dwing om in Jesus te glo, en dalk ‘n vals bekeerling maak.  Jy sal die ware evangelie versaak, omdat dit aanstoot gee.  Jy sal ‘n vals evangelie begin deel wat sagter op die oor is.  Jy sal ‘gimmicks’ gebruik om die kerk te laat groei.  Jy sal jou huweliksmaat druk om te wees soos jý wil hê.  Dalk sal jy selfs sonde doen om jou beproewing te laat ophou (Genesis 16:1-4).  Jy sal val vir vals profete wat die presiese dag van Jesus se wederkoms probeer bepaal.

 

Lank gelede was daar ‘n volk in ‘n ver land wat deur die vyand onderdruk is.  Hulle het gesmag na vryheid.  Hulle het nie geweet dat hulle binnekort vry sou wees nie.  In ‘n eensame hoekie van die land is ‘n Koning gebore.  Die Koning het as ‘n gewone seun in ‘n klein dorpie groot geword.  Later het dit duidelik geword dat daar iets anders aan Hom was.  Hy was goed, gaaf en het wonderwerke gedoen.  Toe sterf Hy op ‘n jong ouderdom.  Sy volgelinge was stomgeslaan – totdat Hy uit die dood opgewek is, as Koning verhef is, en miljoene mense van hulle sondes gered het.  God was besig agter die skerms.  Hy het sy volk verlos.  Dit was ‘n wonderwerk.

[1] Die Hebreeuse woord wat in Eksodus 2 met ‘mandjie’ vertaal word, is dieselfde woord vir ‘ark’ in Genesis 6:14.

[2] Gersom beteken vreemdeling.

Advertisements

’n Christen se persoonlike lyfwag

Body guards

Lewendige beeldmateriaal op YouTube wys hoe John F. Kennedy se lyfwagte aangesê is om van die Amerikaanse president se motor af weg te tree.  Kort daarna het Lee Harvey Oswald vir Kennedy doodgeskiet.

 

Sal ‘n Christen ooit sonder ‘n lyfwag wees?  Die gebeure in Handelinge 21:23-23:35 roep ‘n definitiewe ‘nee’.

 

Beskerm deur die wet (22:23-29)

Een van my vriende het in die grensoorlog geveg.  Hy vertel hoe hulle SWAPO (South West African People’s Orginization) terroriste gevang en ondervra het.  As die terroriste nie die inligting wou gee nie, is hulle kop-eerste begrawe.  As hulle opgehou skop het, is hulle oopgegrawe en wéér ondervra.  Nóg ‘n manier hoe hulle inligting gekry het, was om die terroriste tussen twee perde vas te maak en die perde te laat hardloop.  Ja, dis wreed.  Maar in Paulus se tyd was dit erger.

 

Die kommandant wou uitvind hoekom die skare so teen Paulus gekant was.  Om die inligting te kry het hy beveel dat Paulus gegesel moes word.  Paulus het al voorheen dié straf gekry (2 Korintiërs 11:23-25):  slae oor sy bene en rug met ‘n kort sweep wat stukke yster of been aan die punte gehad het.  Hy wou dit vermy en het van sy Romeinse regte gebruik gemaak:  “Is dit u geoorloof om ‘n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel?” (22:25).  Volgens wet kon ‘n Romeinse burger nie geboei word, voordat hy nie regverdig verhoor is nie.  En selfs dán kon hy nie op só ‘n skandelike wyse gestraf word nie.  Toe die kaptein gehoor dat Paulus ‘n Romeinse burger was, het hy dadelik vir die kommandant gaan sê.  Die kommandant was bang; hy kon in groot moeilikheid beland het.  Hy moes seker maak en het vir Paulus gevra:  “Sê vir my of jy ‘n Romein is?  En hy antwoord:  Ja.  Toe sê die owerste oor duisend:  Ek het hierdie burgerreg vir ‘n groot som verkry (deur omkopery)!  En Paulus sê vir hom:  Maar ek het dit deur geboorte.” (22:27-28).

 

Kan ons God se beskerming verwag as ons martelaarskap soek, sodat ons beroemd kan wees?  Wil jy bejammer of geprys word as ‘n martelaar?  Ek praat nie net van fisiese marteling nie.  Party mis etes, slaap min, raak siek, brand uit, of sterf omdat hulle hard werk vir Jesus.  Maar eintlik doen party dit omdat hulle lof soek.  In Matteus 10 wys Jesus vir ons die balans.  Ja, as jy die Here dien sal jou lewe soms in gevaar wees (v.16).  Tog sê Jesus in dieselfde konteks:  “En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe.” (v.23).  Geld dié beginsel nie in al ons diens vir Jesus nie?  Moet jy siek raak, min slaap, of uitbrand as jy dit kan help?  God het ons geroep om so lank as moontlik te lewe.  Om martelaarskap te soek is selfmoord en ‘n oortreding van die sesde gebod.  Die kannibale op Tanna eiland wou vir John Paton doodmaak.  Hy en Mnr. en mev. Mathieson het bootjies gereed gekry om te vlug.  Toe besluit Mnr. Mathieson om te bly.  Hy het hom in sy studeerkamer toegesluit en gesê dat hy op die eiland wou sterf.  Paton skryf:

 

‘We tried to show him the inconsistency of praying to God to protect us or grant us means of escape, and then refusing to accept a rescue sent to us in our last extremity.  We argued that it was surely better to live and work for Jesus than to die a self-made martyr, who, in God’s sight, was guilty of self-murder.  His wife wept aloud and pled with him, but all in vain!  He refused to leave or to unlock his door.  I then said, ‘It is now getting dark.  Your wife must go with the vessel, but I will not leave you alone.  I shall send a note explaining why I am forced to remain; and as it is certain that we shall be murdered whenever the vessel leaves, I tell you that God will charge you with the guilt of our murder.’[1]

 

Genadiglik het Mnr. Mathieson tot sy sinne gekom en kon hulle die eiland veilig verlaat.

 

God sal ons beskerm, maar Hy red ons dikwels deurdat ons – soos Paulus (22:25) – ons gesonde verstand gebruik.

 

Beskerm deur die kommandant (22:30-23:10)

In die laat 1800’s het liberale teologie in Engeland se Baptiste Unie ingesluip.  Predikante het die liggaamlike opstanding van Jesus, sy maagdelike geboorte, die sondeval, die inspirasie van die Skrif, en ander sentrale leerstellings in twyfel getrek.  Charles Spurgeon het dit teëgestaan.  In ‘n preek op 16 Oktober 1887 het hy gesê:  ‘Truth is usually in the minority in this evil world… what I believe I shall believe, even if I believe it alone.’[2]  Op 28 Oktober 1887 het hy die Unie bedank.  By die Unie se vergadering in April 1888, het hulle Spurgeon uitgestem:  2000 teen 7!  Sy eie broer is mislei en het teen hom gestem.  Spurgeon het vir ‘n vriend geskryf:  ‘Pray for me, that my faith fail not.’[3]  Vyf jaar later, op 26 Oktober 1891 het Spurgeon sy vriende by Herne Hill stasie gegroet met dié woorde:  ‘The fight is killing me.’[4]  Dit was die laaste keer wat hy hulle gesien het.  Hy het siek geword, en op 31 Januarie 1892 die hemelse kus bereik.

 

Soos Spurgeon het Paulus in Handelinge 23 alleen gestaan.  Tog was hulle nie heeltemal alleen nie.  Die Here het by hulle gestaan.

 

Die kommandant kon nogsteeds nie agterkom hoekom die Jode vir Paulus wou doodmaak nie.  Wat sou hy doen om uit te vind?  Hy het die Joodse Raad bymekaar geroep.  Paulus het homself verdedig en dadelik aangedui dat hy onskuldig was:  “Broeders, ek het met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag.” (23:1).  Die hoëpriester, Ananias, was bekend vir sy kort humeur.  Hy het beveel dat hulle Paulus op die mond moes klap (cf. Johannes 18:22).  Paulus het kwaad geword:  “God sal u slaan, gewitte muur!  U sit tog om my volgens die wet te oordeel, en beveel u in stryd met die wet dat ek geslaan moet word?” (23:3).  Die implikasie van sy woorde was duidelik:  ‘Van buite af lyk jy mooi soos ‘n wit muur, maar binne jou is die stene van modder gemaak.  Jy is skynheilig.  Jy maak of ék die wet oortree, maar eintlik is dit jý wat die wet oortree en straf uitdeel sonder dat ek skuldig bevind is.  Het jy vergeet dat die wet sê:  “Julle mag geen onreg doen in die gereg nie… Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel.” (Levitikus 19:15)?  Het jy Spreuke 17:26 mis gelees:  “Is dit alreeds nie goed om die regverdige te beboet nie—om edeles te slaan is onbetaamlik.”?’

 

Hoe het die Raad gereageer toe hy dít sê?  “Skel jy die hoëpriester van God uit?  Daarop sê Paulus:  Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe:  Van ‘n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie.” (23:4-5).  Hoe het Paulus dan nie geweet Ananias is die hoëpriester nie?  Miskien het sy swak sig hom verhinder om dit te weet (Galasiërs 4:13-15, 6:11).  Of dalk het die hoëpriester nie sy ‘uniform’ aangehad nie, omdat die kommandánt die vergadering byeengeroep en gelei het (22:30).  Wat die rede ookal was, Paulus het Eksodus 22:28 geken en bely dat hy verkeerd was.

 

Paulus het besef dat hy geen geregtigheid in dié vergadering sou kry nie.  Hy het uitgeroep:  “Broeders, ek is ‘n Fariseër, die seun van ‘n Fariseër.  Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg.” (23:6).  Die Sadduseërs was teologies liberaal.  Hulle het net die eerste vyf boeke van die Ou Testament aanvaar.  Volgens hulle was daar niks van die opstanding of lewe na die dood in Genesis tot Deuteronomium nie.  Jesus het hulle reeds in Lukas 20:27-40 verkeerd bewys.  Die Fariseërs was teologies konserwatief.  Hulle het in die opstanding, asook in lewe na die dood geglo.  Hulle het die hele Ou Testament geglo, maar ook die oorlewerings van hulle voorvaders as gesaghebbend aanvaar.  Toe hulle besef dat Paulus, soos hulle, in die opstanding glo, het hulle hom verdedig:  “Ons vind geen kwaad in hierdie man nie; en as ‘n gees met hom gespreek het, of ‘n engel, laat ons nie teen God stry nie.” (23:9).  Paulus het in die vorige hoofstuk vertel hoe hy die opgestane Jesus gesien het, maar hulle het gedink dat dit dalk ‘n engel was (Johannes 12:29).  Toe die vergadering warm raak, het die kommandant gesien dat Paulus verskeur gaan word.  Sy soldate het gekom en vir Paulus gered.  Hulle het hom na die Fort toe geneem en daar bewaar.

 

Moes jy al ooit alleen stand inneem by die werksplek, skool, of in jou familie?  Het dit al gebeur dat jy die enigste een was wat teen aborsie, homoseksualiteit en seks buite die huwelik moes staan; wat Bybelse tugtiging verdedig het; wat Genesis 1 as geskiedenis, en Jesus as die enigste Weg na die Vader toe aanvaar het?  Jesus sal jou help, vertroos en verdedig.  Paulus se woorde geld ook vir jóú:  “In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat.  Mag dit hulle nie toegereken word nie!  Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos.  En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan.  Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid!  Amen.” (2 Timoteus 4:16-18).

 

‘n Rein gewete sal help wanneer almal teen jou staan.  Is daar iets waaroor jou gewete jou pla?  Net deur Jesus se kruisdood kan jy ‘n rein gewete hê.  Jy moet jou bekeer, jou sonde bely, en op Jesus vertrou.  Jy moet glo dat Hy God is, mens geword het, en die straf gedra het wat óns verdien.  Jy moet bely dat Hy die Here is, en Hom gehoorsaam.  Hoor wat die Bybel oor ‘n rein gewete sê:

 

  • “Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê.” (24:16).
  • “want ek is my van geen ding bewus [teen my] nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here.” (1 Korintiërs 4:4).
  • “Want ons roem is dit: die getuienis van ons gewete dat ons in eenvoudigheid en reinheid van God, nie in vleeslike wysheid nie, maar in die genade van God in die wêreld verkeer het, en veral by julle.” (2 Korintiërs 1:12).
  • “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees.” (2 Korintiërs 5:11).
  • “Ek dank God, wat ek van my voorouers af in ‘n rein gewete dien” (2 Timoteus 1:3).
  • “laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebreërs 10:22).

 

Wat sal gebeur as jy aanhoudend jou gewete ignoreer?  Jy sal jy dit skroei, sodat dit soos ‘n eelt geen gevoel meer het nie.  Wanneer die Gees jou gewete waarsku en sê:  ‘Daar is ‘n afgrond voor!’, sal jy dit nie hoor nie.  Iemand wat sy gewete skroei het sy waarskuwings- en beskermingsisteem beskadig.

 

Beskerm deur sy susterskind (23:11-22)

In Alfred Hitchcock se film, The man who knew too much, het Doris Day gesing:

 

When I was just a little girl

I asked my mother, what will I be

Will I be pretty, will I be rich

Here’s what she said to me.

Que Sera, Sera,

Whatever will be, will be

The future’s not ours, to see

Que Sera, Sera

What will be, will be.

When I was young, I fell in love

I asked my sweetheart what lies ahead

Will we have rainbows, day after day

Here’s what my sweetheart said.

Now I have children of my own

They ask their mother, what will I be

Will I be handsome, will I be rich

I tell them tenderly.

 

Stem die Bybel saam met hierdie woorde?  God is die Een wat “alles werk volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11).  Teoloë noem dit predestinasie.  Die lied wat ek aangehaal het leer nie predestinasie nie, maar fatalisme.  Wat is die verskil?  Fatalisme sê dat toeval die oorsaak van alles is.  Mense wat dít glo is geneig om passief te wees en depressief te raak:  ‘Whatever will be, will be,’ en jy kan níks daaraan doen nie.  Paulus het in predestinasie geglo:  God bepaal nie net die einddoel nie, maar ook die middele.  Ja, God het bepaal dat Paulus Rome toe sou gaan (23:11), maar dit het nie gemaak dat Paulus passief is nie.  Inteendeel, dit het hom vertroos.  Hy was bly dat sy wens om Rome toe te gaan, vervul kon word (Romeine 15:31-32).  Hy was bly dat die evangelie deur hóm, die eindes van die aarde sou bereik (1:8).  Toe die nuus kom dat die Jode hom wou doodmaak, het hy aksie geneem en gesorg dat hulle plan omver gegooi word (23:17).

 

Om in God se Naam te sweer dat jy sonde sal doen, is om sy Naam ydelik te gebruik.  Dit is wat 40 Jode gedoen het.  Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink, totdat hulle vir Paulus doodgemaak het nie.  Hulle het vir die Joodse Raad gesê:  “Ons het ons met vervloeking verwens om niks te gebruik totdat ons Paulus doodgemaak het nie.  Laat dan nou, saam met die Raad, aan die owerste oor duisend weet om hom môre af te bring na u toe, asof u oor sy saak noukeuriger ondersoek wil doen.  En ons is gereed om hom uit die weg te ruim voordat hy by u kom.” (23:14-15).  God het gesorg dat Paulus se susterskind dit uitgevind het.  Hy het dadelik vir Paulus gaan sê.  Paulus het hom na die kommandant toe gestuur.  Die kommandant sou sorg dat Paulus veilig is.

 

As jy nie onderskeid maak tussen Bybelse predestinasie en heidense fatalisme nie, sal jy jou God-gegewe verantwoordelikheid ignoreer.  ‘n Paar voorbeelde sal duidelik maak wat ek bedoel.

 

[1] Jy móét glo dat die dag van jou dood bepaal is (Job 14:5), maar jy moenie sê:  ‘Ek hoef nie medisyne te gebruik as ek siek is nie; ek kan in elk geval nie voor my tyd sterf nie.’  ‘n Vrou in Nelspruit het kanker gekry en gesterf.  Ek het vir die predikant gevra:  ‘Hoekom laat die Here dit toe?’  Sy antwoord was Bybels en wys:  ‘Wel Ivor, sy het vir 47 jaar gerook.’

 

[2] Jy móét glo dat die Here jou veilig in die hemel sal uitbring (Filippense 1:6), maar jy moenie sê:  ‘Ek kan nie my redding verloor nie; daarom kan ek sondig soos ek wil’ nie.  As jy onheilig is sal jy nie hemel toe gaan nie (Hebreërs 12:14).

 

[3] Jy móét glo dat God jou teen versoeking sal beskerm (Matteus 6:13), maar jy moenie daarmee speel en sê:  ‘Ek verstaan nie hoekom het ek in sonde geval nie – die Here het dan belowe om my te beskerm?’ nie.

 

[4] Jy móét glo dat God in jou behoeftes sal voorsien (Hebreërs 13:5), maar jy kan nie sê:  ‘God het belowe om in sy kinders se behoeftes te voorsien, en daarom kan ek lui wees en heeldag voor die TV lê en ontspan’ nie.

 

God wil hê ons moet sy bepaalde middele gebruik, en só sal Hy sy planne tot vervulling bring.  As jy bid sal jy ontvang; as jy nie bid nie sal jy nié ontvang nie (Jakobus 4:2).  Maar natuurlik moet ons nie die middele verafgod, sodat ons dáárop begin vertrou nie.  “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” (Psalm 127:1).  Sê dié vers jy moenie wagte op die mure plaas, medisyne drink, hard werk vir ‘n inkomste, en teen sonde stry nie?  Óf sê dit jy moenie op hierdie dinge vertrou nie?

 

Beskerm deur soldate (23:23-35)

Maggie is ‘n Amerikaanse vrou.  Een nag stap sy om 23:00 in Hillbrow se strate.  Die stad se naglewe gons.  Sy sien ‘n groep van twintig Nigeriese dwelm-base buite ‘n shebeen.  Hulle staar haar aan.  Hoekom is sy nie bang nie?  Want saam met haar is 450 Navy Seals.  Die wat vír ons is, is baie sterker en meer as die wat téén ons is.  Die Here het vir Paulus hieraan herinner.

 

Die kommandant het twee van sy kapteins opdrag gegee om 200 voetsoldate, 70 ruiters, en 200 spiesvegters gereed te kry, sodat hulle vir Paulus Sesarea toe kon vat.  Die Here het 472 soldate gebruik om één man te beskerm!  Die soldate het in die nag vertrek (21:00), sodat hulle minder sigbaar sou wees.  Hulle het 64 km noord-wes gereis tot in Antipatris (vernoem na Herodes die Grote se pa, Antipater).  Die voetsoldate en spiesvegters het teruggedraai Jerusalem toe, en die ruiters het Paulus verder begelei tot in Sesarea.  Herodes Agrippa II se paleis en die goewerneur (Felix) se amptelike woning was hier.  Hier het hulle Paulus saam met die kommandant (Claudius Lisias) se brief aan Felix oorhandig.

 

Felix was ‘n wrede man.  Hy het omkoopgeskenke aanvaar.  Hy het rowery en geweld geïgnoreer.  Hy het honderde Joodse selote (‘n regse politieke party) gekruisig.  Hy het ‘n groep sluipmoordenaars oorwin, maar later van hulle gehuur om die Joodse hoëpriester Jonatan te vermoor.  As dit van sy karakter afgehang het, sou Felix nooit goewerneur geword het nie.  Sy broer Pallas was goed bevriend met die keiser.  Dít het gehelp dat hy goewerneur geword het.  Felix se lelike karakter verduidelik hoekom die kommandant, in sy brief, sekere feite uitgelaat en verdraai het.  In sy brief sê Claudius Lisias dat hy vir Paulus gered omdat hy uitgevind het hy is ‘n Romeinse burger.  Maar uit hfst.22 weet ons dat hy eers later uitgevind het dat Paulus ‘n Romeinse burger was.  Lisias sê ook nie ‘n dooie woord oor die feit dat hy vir Paulus gebind het nie.  As Felix dít moes uitvind was daar perde.  Felix het gesorg dat Paulus in Herodes se paleis bewaak word.

 

Jy hoef nie bang te wees vir die vyand nie.  Bid en vertrou dat God hulp sal stuur – selfs meer as wat jy nodig het (23:23).  Dink jy genoeg daaraan dat God sy engele opdrag gee om jou te beskerm?  Hoor die Woord van die Here:

 

  • Engele het vir Jakob beskerm toe hy vir Esau gevlug het (Genesis 28:12).
  • Toe die Siriese weermag vir Elisa omsingel het, het God duisende strydwaens van vuur gestuur om hom te beskerm (2 Konings 6:15-17).
  • In 2 Konings 19:35 het God ‘n engel gestuur om vir Hiskia en Jerusalem teen die Assiriërs te beskerm. Dié engel het in een nag 185 000 Assiriese soldate doodgemaak.
  • Psalm 34:8 sê: “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.”
  • Psalm 91:11-12 sê: “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.”
  • In Daniël 6:22 het ‘n engel die leeus se bekke gesluit, sodat Daniël nie verskeur is nie.
  • Jesus het gesê: “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 18:10).
  • Toe die apostels in die tronk was, het ‘n engel hulle kom uithaal (Handelinge 5:19).
  • In Handelinge 12:7-11 het ‘n engel vir Petrus uit die tronk bevry.
  • Hebreërs 1:14 sê van die engele: “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?”

 

Moenie bang wees nie.  God is jou persoonlike lyfwag.  En as Hý vir jou is, wie kan teen jou wees?

 

Het jy al gehoor hoe die gedagte van bruidsmeisies onstaan het?  Party sê dat mense in sekere kulture bygelowig was.  Hulle het geglo dat bose geeste geluk gehaat het, en enige bruid ongelukkig wou maak.  ‘n Paar ander vroue het dus dieselfde rokke as die bruid aangetrek, sodat die bose gees nie geweet het wie die bruid was nie.  So kon hulle die gees flous, sodat dit nie iets aan die bruid kon doen nie.

 

Bose geeste weet wie die hemelse Bruid is.  Beteken dit ons moet bygelowig raak en bang wees?  Hoekom nie?  Want die Almagtige Bruidegom self is ons lyfwag, en daarom is ons altyd veilig.

[1] John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, p.217

[2] Iain Murray, The Forgotten Spurgeon, p.138

[3] Ibid, p.148

[4] Ibid, p.163