Wees sterk en dapper

Male lion fighting

Op 16 Desember 1838 het 300 Voortrekkers ‘n veldslag by Bloedrivier teen 10 000 Zoeloes gewen.  Hulle het die Here se hulp gevra en dit gekry.  In Genesis 14 is daar ‘n soortgelyke storie.  Die Here het vir Abram gehelp om met ‘n paar honderd man vier magtige konings verslaan.

 

Oorlog (v.1-16)

 

1 En in die dae van Amrafel, die koning van Sínear, Aríog, die koning van Ellásar, Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies, 2 het hulle oorlog gevoer teen Bera, die koning van Sodom, en teen Bisra, die koning van Gomorra, Síneab, die koning van Adma, en Seméber, die koning van Sebóim, en teen die koning van Bela, dit is Soar. 3 Hulle het almal hulle leërs verenig in die laagte Siddim, dit is die Soutsee. 4 Twaalf jaar lank het hulle Kedor-Laómer toe al gedien, maar in die dertiende jaar het hulle opstandig geword. 5 Toe kom Kedor-Laómer in die veertiende jaar, en die konings wat saam met hom was, en hulle verslaan die Refaïete in Asterot-Karnaim en die Susiete in Ham en die Emiete in die vlakte van Kirjatáim 6 en die Horiete op hulle gebergte Seïr, tot by El-Paran wat aan die woestyn lê. 7 Daarop het hulle omgedraai en by En-Mispat, dit is Kades, gekom en die hele land van die Amalekiete verower en ook die Amoriete wat in Háseson-Tamar woon. 8 Toe trek die koning van Sodom uit en die koning van Gomorra en die koning van Adma en die koning van Sebóim en die koning van Bela, dit is Soar, en stel hulle in die laagte Siddim in slagorde teen hulle op, 9 teen Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies, en Amrafel, die koning van Sínear, en Aríog, die koning van Ellásar: vier konings teen vyf. 10 Maar die laagte Siddim was vol gate in die lymgrond; en toe die konings van Sodom en Gomorra wegvlug, het hulle daarin geval, en die wat oorgebly het, het na die gebergte gevlug. 11 En hulle het al die goed van Sodom en Gomorra en al hulle voedsel geneem en weggetrek. 12 Hulle het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek—want hy was in Sodom woonagtig. 13 Toe kom daar een wat vrygeraak het, en vertel dit aan Abram, die Hebreër, wat woonagtig was by die terpentynbome van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram. 14 Toe Abram hoor dat sy broer as gevangene weggevoer is, het hy sy geoefende manne wat in sy huis gebore is, laat uittrek, drie honderd en agtien, en hulle tot by Dan agtervolg—15 hy het hulle in die nag van verskillende kante aangeval, hy en sy dienaars, en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat noord van Damaskus lê. 16 En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe.”

 

Die vier konings in v.1 was uit die gebiede van moderne Irak, Iran en Turkye.  Die eerste koning (Amrafel) was van Sinear.  Dit is waar mense vroeër die toring van Babel probeer bou het (11:2).  Sinear en Elam (v.1) was in die suide van Irak en Iran (Daniël 1:2, 8:2).  Die vier konings het geveg teen vyf konings suid van die Dooie See (v.2).  Die konings van Sodom en Gomorra se name is baie gepas:  Bera beteken ‘seun van boosheid’ en Bisra ‘sonde’.  Vir 12 jaar was die vyf konings onder die juk van Kedor-Laomer (een van die vier konings).  Hulle moes belasting betaal, maar in die 13de jaar het hulle gerebelleer.  In die 14de jaar het die vier konings weer opgetrek om oorlog te maak (v.4).  Hulle het oos van die Jordaan getrek en hulle pad deur die reuse geveg:  die Refaïete, Susiete, Emiete en Horiete (v.5-6).  In Deuteronomium 2:10-12 skryf Moses van hierdie selfde reuse:  “Die Emiete…‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete.  Hulle word ook vir Refaïete gehou, soos die Enakiete; maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.  Ook het die Horiete tevore in Seïr gewoon”.  Die Ammoniete se naam vir hierdie reuse was Samsummiete (Deuteronomium 2:20-21).  Dit lyk of húlle verwant is aan die Susiete van Genesis 14:5.  Die reuse se woonstreek het later bekend gestaan as Sirië, Ammon, Moab, en Edom – Israel se vyande!

 

Nadat die vier konings die reuse verslaan het, het hulle omgedraai en noord getrek na Kades en Haseson-Tamar toe (op die weskus van die Dooie See) om die Amalekiete en Amoriete te verslaan (v.7).  God sou uiteindelik die Amoriete en Amalekiete deur Israel straf (15:16, Eksodus 17, 2 Kronieke 20:2).  Ná hulle oorlog met dié groepe het die vier konings by Siddim (by die Dooie See, v.8-9, cf. v.3) teen die vyf konings te staan gekom en hulle oorwin.  Die vyf konings het gevlug.  Sommige van hulle het in teergate geval; die res het berge toe gevlug om dáár te skuil (v.10).  Die vyf konings het Sodom en Gomorra binnegeval en geplunder (v.11).  Hulle het ook vir Lot gevat (v.12).  Voorheen het hy náby Sodom gebly (13:12).  Nou het hy ín die stad gebly (v.12).  Dis amper ‘n klein gelykenis van hoe sonde werk:  moenie eers naby kom nie, want voordat jy jou kry het jy deel daarin.

 

Een van die vlugtelinge het vir Abram die Hebreër (cf. 11:16) vertel dat sy broerskind ontvoer is (v.13).  Abram het sy 318 man saamgeroep en ook vir Mamre, Eskol, en Aner (sy vriende) gevra om hom te help (v.13-14, 24).  Hy was dapper en het takties geveg.  Hy het sy manskappe in groepe verdeel en die vyand van verskeie kante verras in die nag (v.15).  Hy het hulle tot by Hoba gejaag, 400 km noord van Mamre (v.15)!  Hy het vir Lot en al die ‘gesteelde’ goedere terug gebring (v.16).

 

Die oorlog in hierdie hoofstuk het rondóm Abram gewoed, maar hy was veilig in die ‘oog van die storm’.  Die Here het hom beskerm.  God het die land aan hóm en sy nageslag belowe.  Onthou wie die eerste lesers van hierdie hoofstuk was:  die Israeliete in die woestyn, net voordat hulle die Beloofde Land ingeneem het.  Veertig jaar vroeër het hulle die reuse gevrees en geweier om die land in besit te neem (Numeri 13).  In Genesis 14 wys die Here vir hulle hoe vier magtige konings die reuse verslaan het, en hoe Abram met 318 man (en ‘n paar ekstra) die magtige konings oorwin het.  Die les is duidelik:  “by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.” (1 Samuel 14:6).  Gideon het met 300 man die Midianiete oorwin.  “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31).

 

Soos Abram moet ons sterk en dapper wees.  Party lesers sal geroep word om sendelinge te wees in kommunistiese Noord-Korea of Islamitiese Jemen.  Dalk moet jy die nes van dwelmhandel in Kemptonpark se middestad gaan uithaal met die Goeie Nuus van Jesus.  Of dalk moet jy ‘n medegelowige uit Satan se vangstrik van vals lering of sonde red.  Jy moet sterk en dapper wees en die adder van selfbejammering, ‘n kort humeur, angs, wellus, of bitterheid se kop vermorsel.  Miskien word jy ‘n kampvegter teen aborsie.  Daarvoor sal jy sterk en dapper moet wees.  Onthou dat jou wapens magtig is om die duiwel se vestings neer te werp (2 Korintiërs 10:4).  Jesus het reeds die sterk man (Satan) vasgebind en is besig om sy huis te plunder (Matteus 12:29).  Jesus het gekom om slawe van sonde te bevry (Lukas 4:18).  In Hom kan ons sterk en dapper wees.  Deur sy liefde is ons meer as oorwinnaars (Romeine 8:37).

 

Vrede (v.17-24)

 

17 Ná sy terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte. 18 En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring 19 en hom geseën en gesê:  Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. 20 En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het.  Toe gee hy hom die tiende van alles. 21 En die koning van Sodom sê vir Abram:  Gee my die mense, maar neem die goed vir uself. 22 Toe antwoord Abram die koning van Sodom:  Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde, 23 dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie:  Ek het Abram ryk gemaak. 24 Niks vir my nie!  Net wat die dienaars geëet het en die deel van die manne wat saam met my getrek het, Aner, Eskol en Mamre, laat dié hulle deel neem.”

 

Toe Abram van die oorlog af terugkom, het koning Bera (‘seun van boosheid’), en koning Melgisedek (‘regverdige koning’) hom in die Koningslaagte buite [Jeru]Salem ontmoet (v.17-18, cf. 2 Samuel 18:18, Psalm 76:2).  Melgisedek het vir Abram en sy moeë soldate brood en wyn gebring, sodat hulle hul kon verfris (v.18).

 

Omdat Melgisedek die koning van Salem [shalom] was, kan sy naam ook ‘koning van vrede’ beteken.  Hy was ‘n koning en ‘n priester van die Allerhoogste God (v.18).  Soos Abram het hy die geseënde Verlosser en Skepper-God aanbid, en in Sý Naam vir Abram geseën  (v.19-20).  God het mos in 12:2-3 vir Abram belowe:  “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.  En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”  Abram het ‘n tiende van die buit vir Melgisedek gegee (v.20).  Al hierdie dinge wys dat Melgisedek ‘n tipologie was van die Een wat groter sou wees as al die konings in Genesis 14:  Jesus Christus.  Die Hebreërskrywer sê:

 

“Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook ‘n tiende deel van alles gegee het—hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.  Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, ‘n tiende van die buit gegee het.  Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel ‘n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het; maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën.  Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën.  En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe.  En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee; want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het… Want Hy [God die Vader] getuig:  U [Jesus] is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.” (Hebreërs 7:1-10, 17).

 

Die koning van Sodom het besef dat Melgisedek ‘n groter koning is as hy, en het gewag totdat hy klaar gepraat het.  Toe hy sy beurt kry het die koning van Sodom gepraat asof alles in Abram se besit nog syne was (v.21).  Abram kon alles vir homself gehou het, maar was nederig.  Hy het vir God belowe dat hy niks vir homself sou vat nie, want anders sou Bera ‘n houvas op hom gehad het:  ‘Ék het jou ryk gemaak – jy skuld my!’ (v.22-23, cf. 12:16).  Abram het wel gesê dat hy en sy manne van die kos moes eet en het gevra dat Aner, Eskol, en Mamre húlle deel van die buit moes kry (v.24).

 

Bera het gehoor hoe Abram en Melgisedek van die Allerhoogste God praat, en tog het hy hom nie van sy boosheid bekeer nie.  Hy was ryp vir die oordeel (cf. hoofstuk 19).

 

Die Here het vir Abram geseën toe hy sterk en dapper was (v.19-20).  En hy sou vir Israel seën as hulle sterk en dapper was om die land in te neem (Josua 1:1-9).  Soos Abram moet ons Gód se seën ontvang.  Moenie die rykdom en beloning van die wêreld soek nie; hulle sal dit teen jou hou en dit sal in elk geval vergaan (v.21, 23).  As jy blydskap, vrede en troos begeer moet jy die ewige rykdom en lof van God soek (v.19-20, Hebreërs 12:2).  In drie woorde:  hunker na Jesus (Filippense 3:14).  En wanneer hy jou geseën het moet jy nie vergeet om dankie te sê nie (v.20, Abram het ‘n tiende gegee).

 

Martin Luther het 95 stellings teen Wittenberg se kerkdeur vasgespyker.  Hierin het hy die valshede van die Pous en die Rooms-Katoliekekerk uitgewys.  Die Here het vir Luther gebruik om miljoene mense van duisternis te bevry (ons ingesluit).  Mag die Here in ons tyd ‘n sterk en dapper Abram of Luther stuur om miljoene Suid-Afrikaners uit duisternis te bevry.

Advertisements

Moenie bang wees nie

Do not fear

Die Assiriese koning Sanherib en sy weermag het Jerusalem omsingel.  Hy het gespog omdat hy baie ander nasies en hulle gode vernietig het.  ‘Wat laat julle dink júlle God sal my keer?’ het hy vir Hiskia, die koning van Juda, gesê.  ‘Ek sal Jerusalem verwoes soos ek baie ander stede verwoes het.’  Hiskia was bang en het tot die Here gebid.  God het sy gebed beantwoord.  Die volgende oggend het 185 000 Assiriese soldate se lyke om Jerusalem gelê:  ‘n engel het in die nag gekom en hulle doodgemaak.  Sanherib het stert-tussen-die-bene teruggekeer na sy land toe.  Terwyl hy besig was om in die tempel van sy god te aanbid, het sy eie seuns hom vermoor.

 

Dit is waarskynlik met hierdie agtergrond in gedagte wat ons Psalm 46-48 moet lees.  Luister wat skryf die Koragiete in Psalm 46:

 

1 Vir die musiekleier.  Van die kinders van Korag.  Met sopraanstemme.  ‘n Lied.  2 God is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. 3 Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. 4 Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid!  Sela. 5 Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste. 6 God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek. 7 Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe. 8 Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons.  Sela. 9 Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, 10 wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand. 11 Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde. 12 Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons.  Sela.” (Psalm 46).

 

God is rondom ons (v.2-4)

In die ou dae sou soldate skuiling vind agter ‘n rots of in ‘n kliptoring.  ‘n Eeu of wat gelede het soldate forte gebou.  Vandag gebruik party mense sandsakke.  Die Psalmis sê dat sy volk nie hulle vertroue in torings, stadsmure of ander vestings moet stel nie.  God is hulle beskutting.  Hý is hulle toevlug en sterkte (v.2).  Dawid sê:  “So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.” (9:10).  En Salomo:  “as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” (127:1).  “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” (Spreuke 18:10).

 

Ek het op ‘n TV program gesien hoe mense ‘n staal en papier borsharnas toets.  Die papier (wat deur Chinese soldate gebruik is) het net so effektief gewerk die soos staal harnas.  Ons kan ook sê dat die Here (soos die harnas) getoets is (v.2).  Daarom weet ons Hy is betroubaar en kán ons help.  Hy wíl ons ook help; Hy is naby en beskikbaar om ons te help (v.2, ESV).  Moenie op jou eie krag staatmaak wanneer die vyand jou omsingel nie.  Die Hére is jou sterkte (v.2).  Wees sterk in die Hére en die heerlikheid van sterkte; beklee jou met die volle wapenrusting van Gód (Efesiërs 6:10, 13).

 

As jy ‘n ongelowige is het hierdie teks ook iets vir jóú te sê.  God is nie jou toevlug nie, en daarom is jy onbeskut.  Jy is veral onbeskut van die grootste gevaar wat jou bedreig, naamlik God self.  Jy moet jou toevlug in God vind deur Jesus Christus.  Dit werk amper so iets:  in Skotland hou hulle kompetisies om te kyk wie kan ‘n swaar klip die verste kan gooi.  Dit het eenkeer gebeur dat ‘n klein dogtertjie op die speelveld geloop het net toe ‘n deelnemer ie klip gegooi het.  Die klip was reguit oppad na die dogtertjie toe.  ‘n Yslike man het gehardloop en sy rug en arms bo-oor die dogtertjie gesit om haar te skerm.  Die klip het op sy rug en skouers geval.  Hy het baie seergekry, maar die dogtertjie was onbeskadig.  Dít is wat Jesus gedoen het.  Ons het teen God gesondig en verdien dat sy oordeel en straf op ons moet val.  Uit liefde vir ons het God sy Seun gestuur om ons straf op Homself te neem.  Ons liefdevolle Here Jesus het ingestem om dit te doen.  Hy wóú dit graag doen om óns te red en sy Vader tevrede te stel.  Hy het die volle straf gedra vir die sondes van almal wat in Hom sou glo.  God sê jy moet jou sonde haat, regtig jammer wees daaroor en ophou daarmee.  Jy moet met jou hele hart vertrou dat Jesus God is en ‘n mens geword het; dat Hy volmaak gehoorsaam was aan sy Vader, namens ons die straf vir sonde gedra het aan die kruis, begrawe is en opgestaan het uit die dood.  As jy dít doen, dan sal jy gered word.  Vra met erns dat Hy jou sal red.  Hy sal jou nie weier nie.  “Want:  Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Romeine 10:13).  “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37).

 

Jy hoef nie bang te wees nie Christen; al slaan die golwe om jou en al skud die aarde (v.3-4, cf. Markus 4:40).  Jesaja sê:  “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.” (Jesaja 54:10).  Die vyand kan niks aan jou doen nie, maar is soos ‘n golf wat in die verte raas en skuim.  Jy hoef nie te vrees nie:  al tref natuurrampe jou, al gee jou gesondheid in, al lyk die toekoms onseker, al pla jou verlede jou, al lyk die ekonomie bleek, al val Satan jou aan; al is die dood op jou hakke, al begrawe jy ‘n geliefde; al tref beproewing jou familie (werkloosheid, finansiële probleme, rebelse kinders, huweliksprobleme), al is jy ‘n slagoffer van onreg, al dreig mense jou, ja, selfs al staan jy voor die Hemelse Regter.  Jy is verenig met Jesus, en daarom is jy veilig.  God is jou Beskermer wat soos ‘n muur rondom jou is:  “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.” (34:8).

 

God is met ons (v.5-8)

In die tuin van Eden was daar riviere wat lewe en verfrissing gebring het (Genesis 2:10), en in die stad van God is daar koel waterstrome wat dieselfde doen:  “Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste” (v.5).  “En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam.  In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.” (Openbaring 22:1-2).

 

In Jerusalem het die watertoevoer van buite die stad gekom (2 Konings 18:17).  Vyande sou partykeer die watertoevoer afsny om die mense binne die stad uit te lok.  Die hemelse Jerusalem het duidelik nie daardie probleem nie, want in die eersteplek is daar nie vyande nie, en tweedens loop die rivier deur die stad.

 

Ten spyte van die see wat om ons woel (v.4), gee God ‘n rivier van lewe en vrede vir die inwoners van sy stad (v.5).  Ons kan dus lewe en vrede hê in die midde van die vyand wat ons omsingel.  Só beskryf die Bybel hierdie dinge:

 

“Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” (23:2).

 

“Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge.  Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.” (36:9-10).

 

“maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).

 

“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal:  Verbly julle!  Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.  Die Here is naby.  Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” (Filippense 4:4-7).  Paulus sit in die tronk wanneer hy hierdie brief skryf.  Let op hoe hy rustig drink uit die rivier van God se vrede wanneer die storms rondom hom woed.

 

Hoe kan jy hierdie vrede in die midde van storms kry?

 

  • Sing van God se beskerming en verlossing (v.1, ‘n Lied).
  • Onthou hierdie Psalm – veral v.2, 6, 8.
  • Glo die beloftes van die Bybel.
  • Leer uit die lewens van ander gelowiges wat veilig deur moeilike tye is.  Let veral op hoe Jesus ‘n aaklige kruisdood kon verduur, omdat sy oog gevestig was op die hemelse heerlikheid wat kom (Hebreërs 12:1-2, Kolossense 3:1).
  • Dank God eerder as om te kla.
  • Glo dat God soewerein en heeltemal in beheer van die slegte omstandighede is.
  • Bid.  Stort jou hart voor die Here uit.

 

God is met jou (v.6, 8).  Al gaan jy ook deur die dood self, kan jy sê:  “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (23:4).  God se belofte in Jesaja 43:1-2 geld ook vir jou:  “Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel:  Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!  As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.”  Jesus is mos Immanuel, God met ons (Matteus 1:23).  Hy het ons verseker:  “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20).

 

Daarom hoef jy nie bang te wees nie.  Soos God die Assiriese weermag in hulle slaap oorval het (2 Konings 19:35), sal Hy ons vyande onverwags platvee:  “God sal dit help as die dag aanbreek” (v.6).  Daar het jy dit:  die dag sal weer aanbreek.  Dit sal nie vir ewig ‘n donker nag bly nie.  Die son sal weer skyn:  “saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.” (30:6).  Die son het weer opgekom na die donker nag van Golgota (Matteus 27:46, 28:1).  En na die donker nag van hierdie lewe op aarde, sal die Dag van Jesus se wederkoms aanbreek (2 Petrus 2:19).  Al wankel die nasies en die aarde (v.3-4, 7, 2:1-2), ons sal nie (v.6).  Moenie vrees as nasies en diktators raas nie.  God se stem sal hulle soos pionne laat kantel:

 

“Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.” (v.7).  ”En die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord.  Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?…En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe.  Maar die HERE sal ‘n toevlug wees vir sy volk en ‘n skuilplek vir die kinders van Israel.” (Joel 2:11, 3:16).  Die vyand smelt voor die Here soos ys in die son:  “Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon.” (Nahum 1:5).  Waar is Malema?  Waar is Gadafi?  Die Here is die God van Jakob (v.8).  Hy is óns God.  Hy is die God van sy weermag en sal ons beskerm (v.8, cf. 1 Samuel 17:26, 45).  Glo jy dat die beginsel in <st1:bcv_smarttag>2 Kronieke 20:17 vir jóú geld?  “Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem!  Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees.”  Stop en dink ‘n bietjie hieroor (v.8, dit is waarskynlik wat Sela beteken).

 

God is vir ons (v.9-12)

Uiteindelik sal daar vrede wees (v.10).  Maar God sal hierdie vrede bereik deurdat Hy ons vyande oordeel (v.9).  Moenie vergeet dat God vir ons veg nie:

“Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.” (v.9-10).  Aanskou die dade van die Here (66:5)!  Ons vergeet te maklik wat die Here gedoen het.  Om sy werke te onthou is dit belangrik om nie die Bybel-, en kerkgeskiedenis te verag nie.  Lees van dit wat God gedoen het.  Sien ook in die wêreld en in jou eie lewe wat die Here besig is om te doen.

 

Vers 9 sê ons moet sien watse verskriklike dinge die Here op die aarde gedoen het.  Hy het die wêreld vernietig met ‘n vloed.  Hy het die Egiptenare met tien plae en in die Rooisee vernietig.  Hy het die Babiloniese Ryk tot ‘n einde gebring:  “Sy stede het ‘n woesteny geword, ‘n dor land en ‘n wildernis; ‘n land waar niemand in woon nie, en waar geen mensekind deurtrek nie.” (Jeremia 51:43).  In 70 n.C. het Hy Jerusalem verwoes (die tempel is nooit weer herbou nie).  Hy het die Romeinse Ryk tot ‘n einde gebring.  Die Swart Dood het Europa soos ‘n skaduwee bedek.  Die aarde is geskud deur twee wêreld oorloë.  Die depressie-jare het baie lande geknak.  VIGS neem jaarliks die lewens van miljoene mense.  God het in die afgelope paar jaar een natuurramp op die ander gestuur.  9/11 het minder as 5000 lewens geeïs, maar het die wêreld tot stilstand geruk.  Daar sal nog baie rampe in die toekoms wees.  En wanneer Jesus kom, sal ons sien hoe Hy nog éen keer “verskriklike dinge oor die aarde bring.” (v.9).

 

Dank God vir die vrede wat Jesus deur sy kruisdood gebring het (Romeine 5:1, Kolossense 1:20).  Dank God ook vir die vrede wat oppad is wanneer Jesus sy Koninkryk op die aarde vestig.  Hy sal oorloë laat ophou en alle wapens vernietig (v.10).  Die Ou- en Nuwe Testament voorspel hierdie dinge:

 

“En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” (Jesaja 2:4).

 

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem:  Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” (Jesaja 9:5-6).

 

“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja.  Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk.  Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jesaja 11:6-9).

 

“Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.  Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees.  En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie.  Daarvandaan sal nie meer kom ‘n suigling van ‘n paar dae of ‘n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.  En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet:  hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.  Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ‘n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle.  En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.  Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ‘n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.” (Jesaja 65:17-25).

 

Sien ook Openbaring 20-22.

 

Jesus het gesê ons moet hiervoor bid:  “laat U Koninkryk kom” (Matteus 6:10).

 

Hoe sal God hierdie vrede inbring?  Hy sal vir sy (en ons) vyande sê:  “Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.” (v.11).  Soos wat Jesus vir die wind en die golwe gesê het:  “Swyg, wees stil!” (Markus 4:39), sal Hy dit vir sy vyande sê.  God sien wat Satan en ander vyande aan jou doen.  Jy sal binnekort sy stem hoor wat vir jou vyande sê:  ‘Stop!  Dis genoeg!’  Die Here sal tot jou hulp snel.  Hy sal oor jou vyande heers (v.11, 2:8, Jesaja 2:11).

 

Veg jy dalk teen God?  Is jy kwaad vir Hom omdat dinge in jou lewe skeefloop?  Is jy kwaad omdat jy nie hou van sekere dinge wat Hy in sy Woord sê nie?  Wees stil!  Stop!  Dis genoeg!  Verneder jouself onder die kragtige hand van God (1 Petrus 5:6).  Bely dat Hy verhewe is en jy nie (131:1-3).  As jy dít gedoen het kan jy v.12 jou eie maak:  “Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons.  Sela.”  Of in Nuwe Testamentiese terme:  “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê?  As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31).