Die millennium en daarna

Burning earth

Mense het ‘n natuurlike nuuskierigheid oor die toekoms.  Dit is hoekom daar so iets soos toekomsvoorspellers is.  Hulle kan egter nie regtig die toekoms voorspel nie, omdat net die ware God dit kan doen (Jes.41:22-23).  Hy het in die Bybel deur die apostels en die profete vir ons gesê wat in die nabye en in die verre toekoms gaan gebeur.  Op.20:4-10 is een van vele tekste wat oor hierdie dinge praat.

 

Die millennium (v.4-6)

John Owen was ‘n prediker en teoloog wat in die 1600’s gelewe het.  Hy is daarvoor bekend dat hy moeilik geskryf het.  Dié wat dit geniet om hom te lees sal egter vir jou sê jy kan hom verstaan as jy hom noukeurig en stadig lees.  So is dit ook met Op.20:  dit is moeilik, maar as jy dit frase vir frase neem kan jy dit verstaan.  Selfs as jy nie elke detail verstaan nie, is dit moontlik om die breë trekke te verstaan.

 

Johannes het trone gesien:  dié wat gesag ontvang het om te oordeel het daarop gesit (v.4).  Hy het ook die siele gesien van dié wat vir die getuienis van Jesus en vir die Woord van God onthoof is (v.4).  Hulle het nie die dier of sy beeld aanbid nie; hulle het ook nie sy merk op hulle regterhande of voorkoppe ontvang nie; hulle het die Here gevolg en nie soos die wêreld gelewe nie (v.4).[1]

 

Wat beteken hierdie vers?  Dié wat op die trone gesit het, mag dalk die apostels wees wat die hele kerk verteenwoordig (Lk.22:30).  Alhoewel die martelare se siele aandui dat hulle in die hemel was (v.4, Heb.12:23), was dié wat op die trone gesit het in die hemel en op die aarde.  In die toekoms sal ons op trone sit en saam met Jesus regeer (3:21, 5:10, 22:5).  En tog is daar ‘n sekere sin waarin ons reeds saam met Hom in hemelse plekke sit (Ef.2:6, Kol.3:1, 3).

 

Die martelare se siele het lewend geword en vir ‘n duisend jaar saam met Jesus regeer (v.4).[2]  Dit is die eerste opstanding (v.5).  Die eerste opstanding verwys na Jesus se opstanding (2:8, 1 Kor.15:20, 23, Kol.1:18), en na dié wat deur wedergebore daarin deel (v.6, Kol.2:12, Ef.2:5-6).

 

Die tweede dood of die hel het geen mag oor hulle nie (v.6, 14, 21:8).  Hulle is wedergebore en sal daarom nie hel toe gaan nie (2:11).  Tydens die duisend jaar sal hulle as priesters en konings van God en die Messias regeer (v.6, 1:6, 5:10, 1 Pt.2:9).

 

Die res van die dooies in v.5 het nie deur wedergeboorte in Jesus se opstanding (die eerste opstanding) gedeel nie, maar sou net aan die einde van die duisend jaar in die tweede opstanding van die liggaam gedeel het (v.5).

 

Premils maak beswaar:  ‘Hoe kan jy sê dat die eerste opstanding geestelik is, terwyl die tweede een liggaamlik is – is jy nie besig om in die teks in te lees wat daar nie staan nie?’  Nee.  Die konteks en die res van die Skrif vereis dat ons die teks so moet interpreteer.  Buitendien is die eerste opstanding nie net geestelik nie maar liggaamlik, omdat dit na Jesus s’n verwys.

 

Omdat ons deur wedergeboorte daarin deel, kan ons sê dat die eerste opstanding liggaamlik en geestelik is, terwyl die tweede een net liggaamlik is (Rm.8:11).  Die eerste dood is liggaamlik, terwyl die tweede een liggaamlik en geestelik is in die hel (Mt.10:28).

 

As Johannes dan die twee dode verskillend interpreteer, weet ek nie hoekom premils dink dit is vergesog wanneer post- en amils die twee opstandings verskillend interpreteer nie.  Johannes self het dit so geïnterpreteer:  Jh.5:24-25 praat van ‘n geestelike opstanding, terwyl Jh.5:28-29 van die opstanding van die liggaam praat.

 

In die lg. teks wys Johannes ook dat daar net een opstanding van liggaam is, en nie twee of meer soos wat premils sê nie.  Ek sal in die volgende preek meer hieroor sê.

 

As jy vir mense van Jesus vertel en die Woord van God met hulle deel, sal hulle jou haat (v.4, 6:9).  Een van ons lidmate is hierdie week deur haar baas ingeroep.  ‘Jy mag nie meer die evangelie by die werk deel nie; as jy weer oor Jesus praat gaan ons jou afdank,’ het hy gesê.  Die wêreld sal jou haat net omdat jy aan Jesus behoort (Jh.15:18-25).

 

Maar moenie dat dit jou afsit nie.  Onthou dat jy saam met Jesus regeer, en dat die wêreld jou erfdeel is (v.4, 6, Mt.5:5, 1 Kor.3:21-23).  God het jou geheilig of afgesonder om in hierdie seën te deel (v.6, 14:13, Ef.1:3).  Jou taak is om seker te maak dat jy deur wedergeboorte in Jesus se opstanding deel (v.4-6).

 

Hoe doen jy dit?  Net soos wat ‘n kind homself nie verwek en in die wêreld inbring nie, kan geen mens homself wederbaar nie.  Geestelike geboorte kom van God af; dit is Hý wat ons in die eerste opstanding laat deel (Jh.1:13, Ef.2:4-6, Jk.1:18, 1 Pt.1:3).

 

Vra dan vir Hom om Christus se lewe in jou hart te plant.  Glo dat Hy dit sal doen, omdat Jesus in sy kruisdood die straf gevat het wat ons moes kry.  Glo ook dat Hy dit kan doen, omdat Jesus uit die dood uit opgestaan het en vir ewig lewe.  Los die sonde waarvoor jy so lief is, en vra dat Hy jou sal vergewe.  As jy dit nié doen nie, sal jy in die tweede dood van die hel deel (v.6).  En dit sal die fout van jou lewe wees.

 

Die wederkoms (v.7-10)

Toe ek in Nelspruit gebly het, het ek elke tweede Sondag ‘n man in die tronk gaan besoek.  Hy was baie bly toe hy uitgekom het.  Ek het met hom gepraat toe hy weer by sy ouers gebly het.  Maar van wat ek verstaan het hy na sy ou weë toe teruggekeer, en is hy tronk toe.  Blykbaar het die tronk nie sy hart verander nie.

 

Net so het die duiwel se tronk in v.1-3 nie sy hart verander nie (nie dat dit die bedoeling was nie).  Toe hy vrygelaat is, het hy sy bose streke voortgesit (v.7-8, 3).  As ‘n laaste poging het hy probeer om die nasies te mislei (v.8).  Hy het die ongelowiges onder hulle van oral af gebring om God se kinders te vervolg (v.8).

 

Hulle was soos die sand van die see.  Volgens die Bybelse gebruik van die term beteken dit dat daar ‘n paar honderd duisend of dalk ‘n paar miljoen van hulle was (Dt.1:10, Jos.11:4, Rgt.6:5, 7:12, 1 Sm.13:5, 1 Kon.4:20, Heb.11:12).  Die teks dui dus nie noodwendig aan dat hulle meer was as die gelowiges nie.

 

Volgens v.8 is hulle Gog en Magog genoem.  In Esg.38-39 is Gog en Magog ‘n ander naam vir Antiochus Epifanes wat teen Israel baklei het, maar deur God se ingrype oorwin is.[3]  In Op.20:8 is Gog en Magog ‘n simboliese naam vir die nasies wat onder die duiwel se invloed teen God se kinders baklei het.  Soos met die ander name in Op.2, 11, 18 (Isebel, Sodom, Babilon), verwys Gog en Magog in v.8 nie na die Ou Testamentiese figure nie, maar is dit ‘n simboliese naam.

 

Soos in Esg.38-39 het God die duiwel en sy handlangers teen die kerk versamel, omdat Hy hulle op een slag wou uitwis.  Hulle het oor die breedte van die land of aarde gekom om die kamp en die geliefde stad van die heiliges te omsingel (v.9, Hab.1:6).  Die kamp en die geliefde stad verwys na die hemelse Jerusalem of die kerk (21:2, 2 Kor.11:2, Gal.4:26, Heb.12:22, 13:12-14).

 

Volgens die belofte in Mt.16:18 kon Satan nie teen die kerk gestaan het nie.  Jesus het na die aarde toe teruggekeer om hom en sy goddelose magte met vuur te vernietig (v.9, 2 Ts.1:6-8, 2 Pt.3:10, 12, vgl. Gn.19:24, 2 Kon.1, Esg.38:22, Lk.9:54).  Hy is in die poel van vuur en swawel gegooi waar die dier en die vals profeet alreeds was (v.10, 19:20).  Daar het God hom vir sy boosheid gepynig – vir ewig (v.10, 14:10-11).

 

Die duiwel kan nie met Jesus vergelyk word nie. Sy mag is geleen; hy kan nie doen wat hy wil nie.  As hy en sy demone die Here se kinders wil versoek of ander groot bewegings wil maak, moet hulle toestemming kry (Job 1:6-12, 2:1-6, Lk.8:32, 1 Jh.5:18).  Dit is nie ‘n gelyke speelveld tussen Christus en die duiwel nie (v.9).

 

Wat ‘n charismaat eenkeer vir my gesê het, is loutere onsin:  ‘Omdat daar so iets soos geestelike wette is, moet God by die reëls hou.  Gevolglik kan die duiwel partykeer vir Hom sê om dinge te doen wat Hy andersins nie sou of wou doen nie.’  Die implikasie is dat die duiwel vir God kan ‘black mail’.  Hy kan Hom m.a.w manupileer, in ‘n hoek dryf, en in skaak sit.

 

Bog, snert, vuilgoed en twak.  Die duiwel sidder voor God en praat nie terug wanneer Hy vir hom sê wat om te doen nie (Mt.4:10-11, Mk.1:23-26, Jk.2:19).  Sorg daarom dat die duiwel en nie Jesus nie, jou vyand is.  Dank die Here dat jy aan die wen kant is, en dat die Heilige Gees wat in jou woon sterker is as die duiwel (Rm.8:31, 1 Jh.4:4).

 

Ons moenie die duiwel uittart nie (2 Pt.2:10-11, Jud.8-9), maar ons moet ook nie in vrees lewe asof hy die mag het om te doen wat hy wil nie.  Jesus sal ons beskerm en die duiwel se aanvalle gebruik om ons te bevoordeel (Rm.8:28).  En as Hy hom klaar soos ‘n ou stoflap gebruik het om ons blink te vryf, sal Hy hom vir ewig in die hel gooi (v.10).

 

Moet asb. nie die idee kry dat die hel ‘n plek is waar die duiwel met ‘n drietand vurk rondloop om ongelowiges te pynig nie.  Dit is nie naastenby die geval nie.  In 2004 het Rick Holland by ‘n konferensie gesê:  ‘Satan is not the captain of hell, but the chief captive of hell’ (vgl. Mt.25:41).  God is soewerein oor Satan.

 

As jy ‘n goeie fliek kyk en jou kind vir jou sê hoe dit gaan eindig, is dit ‘n anti-klimaks en kan jy net sowel die storie afsit.  Maar met die millennium en dit wat daarna gaan gebeur is dit nie so nie.  Die feit dat God reeds die einde bepaal het (Jes.46:10, Ef.1:11) en vir ons gesê het hoe dit gaan afspeel, stel ons gerus.

 

[1] Sien my preek, Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666) vir ‘n verduideliking hiervan.

[2] In die vorige preek het ek gewys dat die duisend jaar simbolies is van die tydperk tussen Jesus se eerste koms en sy tweede een.  Die preek se titel is, Die goue era van postmillennialisme as jy dit dalk wil opsoek.

[3] David Chilton, The Days of Vengeance, p.206 en William Hendriksen, More Than Conquerors, pp.232-234

Die storm van God se oordeel

tornado

Mense in die Suid-Oostelike V.S.A. is gewoond aan tornado’s en siklone. Hulle het allerhande gevorderde instrumente om hulle teen hierdie verwoedelike storms te waarsku.  Op.6:9-17 is een van God se spesiale instrumente om ons teen die finale storm van sy oordeel te waarsku.

Die rede vir God se oordeel (v.9-11)

Oor die afgelope paar jaar was daar verskeie dokumentêre en programme op TV wat gewys het hoe speurders moordsake oplos. Om bloed op te spoor, gebruik hulle ‘n sekere produk wat BlueStar Forensic genoem word.  Dit werk so iets:

 

Sally vermoor vir Patrick. Ná die moord vee sy die bloed van die vloer af op; die muur was sy met chemikalieë.  Wanneer die speurder by die moordtoneel opdaag, spuit hy BlueStar Forensic teen die muur en op die vloer.  Daarna skakel hy die ligte af.  Die BlueStar Forensic skyn helder blou op die plekke waar die bloed was.

 

Ek is nie ‘n kenner op die gebied nie, maar ek hoor dat sekere suurstofryke bleikmiddels die bloed heeltemal kan afwas. Ek weet nie of dit waar is nie, maar dit help om my punt te illustreer.

 

Die moordenaar mag dalk van die bewyse ontslae raak, maar by die Here kan hy nie wegkom nie. Dalk het die moordenaars van God se kinders gedink dat Hy van hulle bose dade vergeet het, maar Hy het nie.  Sy kinders se bloed het teen die moordenaars uitgeroep en sou binnekort vergeld word.  Dit is wat in v.9-11 aan die gang is.

 

Toe die Lam die vyfde seël oopgemaak het (v.1, 5:1, 9), het Johannes die siele van die martelare onder die altaar gesien (v.9). Die altaar verwys na die wierook altaar van 8:3-5.  In die Ou Testament het die hoëpriester wierook op dié altaar geoffer (Eks.30:7).  Soos geurige wierook was sy gebede aanneemlik vir die Here (Ps.141:2).  Een maal per jaar het hy bloed op die horings van die altaar gesmeer (Lv.4:7).

 

Johannes het dít in gedagte gehad toe hy v.9-10 geskryf het. Sy punt was om te wys dat die martelare se hulpgeroep vir geregtigheid soos die aangename geur van wierook voor die Here opgestyg het (5:8, 8:3-5).  Die bloed van die martelare onder die altaar leer vir ons dat die priesters van Jerusalem die gelowiges se bloed gestort het (Lk.11:51b).  Hulle siele onder die altaar wys vir ons dat hulle bloed afgeloop het tot aan die voet daarvan.  Volgens Lv.17:11 is die siel of lewe in die bloed, en daarom sê Johannes dat hulle siele onder die altaar was (v.9).

 

Volgens v.9 is die martelare vir die getuienis van God en sy Woord vervolg en doodgemaak (1:2, 9, 2:9-10, 13, 20:4, Mt.22:6-7, Lk.11:47-50, 20:10-16, Mk.6:27-28, Hd.7:52, 58-60, 12:2). Soos Abel se bloed van die grond af na die Here toe uitgeroep het, het hulle desperaat uitgeroep vir geregtigheid (v.10, Gn.4:10, Lk.11:51a, 18:7-8).  Die Here is soewerein.  Hy is heilig en haat sonde.  Hy is waaragtig om sy beloftes uit te voer.  Daarom het die martelare vir Hóm gevra om hulle te help (v.10).  Wat was hulle versoek?

 

‘Hoe lank nóg voor U wraak neem op dié wat u kinders se bloed vergiet het?’ (v.10, Ps.79:10, 94:3, 119:84, Sg.1:12). Die oordele van v.12-17 sou binnekort (in Johannes se tyd nog) oor die moordenaars se koppe losgebreek het (v.11, 1:1, 3).  Tot dan moes hulle rustig en geduldig op die Here gewag het (v.11).  Volgens sy soewereine raadsplan moes nóg martelare (mede-diensknegte of broers) doodgemaak word (v.11).  Sodra die moordenaars die maat van hulle sondes volgemaak het, sou die Here hulle geoordeel het (Gn.15:16, 1 Ts.2:14-16).  Maar tot dan moes die martelare bly gewees het dat die bloed van Jesus die klere van hulle lewens wit gewas het, en dat Hy hulle sonde vergewe het (7:9, 14).  As dit nie so was nie, sou selfs húlle die oordele van v.12-17 gesmaak het.

 

Het mense jou al sleg behandel omdat jy ‘n Christen is, omdat jy nie saam met die stroom gaan nie, of omdat jy opgestaan het vir wat reg is? Het hulle jou uitgeskuif, sleggesê, agter jou rug gepraat, sekere voorregte by jou weggevat, jou aangeval, jou emosioneel, sielkundig, verbaal, of fisies geboelie, leuens oor jou versprei, lelike sms’e, e-posse, of boodskappe op Facebook vir jou gestuur, jou geïgnoreer asof jy nie bestaan nie?  Wat moet jy in sulke situasies doen?

 

Moenie self wraak neem nie, maar los dit vir die Here (Rm.12:19). Jou plig is om vir hulle te bid en te vra dat die Here hulle sal seën (Lk.6:28).  Doen goed aan jou vyande en tree op soos dit by ‘n Christen pas (Lk.6:29-36, Rm.12:20).  Poog van jou kant af om in vrede te lewe (Rm.12:18).  Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê (Lk.6:31).

 

Om jou oor die saak te kwel help nie, maar sal net daartoe lei dat jy sonde doen (Ps.37:8). Verbly jou eerder in die Here en gee die saak vir Hom – Hý sal wys dat jy onskuldig is (Ps.37:4-6).  Vertrou sy soewereiniteit (v.10):  jou vyande kon jou nie so behandel het sonder die Here se wyse raadsplan en toestemming nie (v.11).

 

Die Here is heilig en waaragtig: Hy sál sorg dat jou vyande gestraf word (v.10).  Dit is verkeerd om die gereg in jou eie hande te wil neem, maar dit is nie sonde om te bid dat die Here geregtigheid sal bring nie (v.10).  Om jou vyande lief te hê beteken nie dat jy hulle sonde goedkeur en maak asof dit nie gebeur het nie.  Dit beteken nie dat jy jou skouers optrek wanneer hullle met hulle bose dade aanhou nie.  Volgens Jesus moet ons vir geregtigheid bid (Lk.18:7-8), en in 2 Tm.4:14 het Paulus vir Timoteus teen sulke mense waarsku en gevra dat die Here hulle sal vergeld.

 

Moenie dink dat die Here nie van hierdie dinge weet nie, of dat dit onopgemerk by Hom verbygegaan nie. Hy weet wat aangaan en sal hierdie mense volgens hulle bose dade vergeld.  Soos wat Hy die Jode en die Romeine hiervoor geoordeel het, sál Hy die Kommuniste, Nazis, Katolieke, ISIS en die Moslems, en elke ander vyand van sy kinders oordeel.  As hulle hulle bekeer, dan sal Hy hulle vergewe (soos Hy vir Paulus vergewe het).  Maar as hulle daarmee aanhou, sal Hy wraak neem.

 

Die beskrywing van God se oordeel (v.12-17)

Tim LaHaye se Left Behind reeks gee vir ons ‘n vreeslike beskrywing van God se oordele.  Dat die Here se oordele erg is, is nie te betwyfel nie.  Ek dink egter dat LaHaye en ander sensasionele eindtyd-outeurs nagelaat het om Op.6 met die res van die Bybel te vergelyk.  As hulle dít gedoen het, sou hulle Johannes se woorde in ‘n ander lig beskou het.

 

Toe die Lam die sesde seël oopgemaak het, het Johannes skrikwekkende verskynsels in die natuur gesien. Deur die teks noukeurig uit te lê en dit met die res van die Bybel te vergelyk, kan ons sien dat Johannes hoofsaaklik simboliese taal gebruik om God se angswekkende oordele te beskryf.  Wat het hy gesien?

 

Daar was ‘n groot aardbewing (v.12). In die res van die boek gaan aardbewings gepaard met God se oordele (11:13, 16:18).  Toe die Here vir Nineve en Babilon geoordeel het, het die aarde voor Hom gebewe (Nah.1:5, Jes.13:13).  Jer.10:10 beskryf hoe die aarde skud voor God se toorn.  Voordat God die ou verbond gegee het was daar ‘n aardbewing (Eks.19:18), en toe Hy dit in 70 n.C. met die verwoesting van die tempel finaal tot ‘n einde gebring het was daar ‘n aardbewing (v.12, Lk.21:6-7, 11, 32, Heb.12:26-27, 8:13, 10:9).

 

Die son het swart geword soos ‘n roukleed wat van swart bokhare gemaak is (v.12). Dit is asof die son in begrafnisklere gerou het, omdat God vir Israel so swaar geoordeel het (Jes.50:3).  Die maan het soos bloed geword (v.12).  Die sterre nie meer geskyn nie, maar op die aarde geval (v.13).  Die res van die Bybel wys vir ons dat Johannes simboliese taal gebruik (een ster wat op die aarde val sal dit immers onmiddellik uitwis).

 

Toe God in die Ou Testament vir Babilon, Egipte, Israel, Juda en die nasies geoordeel het, het Hy gesê dat die son, maan en sterre nie meer sal skyn nie (Jes.13:10, Esg.32:7-8, Joël 2:2, 10, 31, 3:15, Am.8:9, Sef.1:15). In Jesus se lering oor die verwoesting van Jerusalem (Lk.21:6-7, 20) het Hy gesê dat die son swart sou word, dat die maan nie meer sou skyn nie, en dat die sterre sou val (Lk.21:25, Mt.24:29).  Volgens Jesus sou al hierdie dinge nog in hulle leeftyd gebeur het (Lk.21:32).  Ek glo dat Op.6:12-13 hierdie gebeure beskryf.  Dit het niks te doen met John Hagee se Four Blood Moons nie.

 

In v.13 sien Johannes hoe die sterre soos navye op die aarde geval het. Wat beteken dit?  Net voordat die seisoen vir vye aanbreek, is daar ‘n klein vy wat saam met die blare groei.  Dit word omtrent so groot soos ‘n kersie, maar die wind laat die meeste daarvan afval.  Die groot en soet vye kan dan ‘n kans kry om te groei.[1]  Wat is Johannes se punt?

 

Die res van die Bybel leer vir ons dat Israel soos hierdie vyeboom was, en dat hulle nie die smaaklike vrug van bekering gedra het nie (Jes.28:4, Hos.9:10, Mg.7:1). Hiervoor het die Here hulle vervloek en sou Hy die ‘vyeboom’ afgekap het (Mk.11:12-21, Lk.13:6-9).  Omdat die vyeboom die vrug van bekering afgegooi het (v.13), sou God sy volk wat so baie soos die sterre was (Gn.15:5) neergewerp het (v.13).  Nou sou mense uit alle nasies wat in Jesus geglo het, soos sterre in die hemel geskyn het (1:20, Fil.2:15).

 

Johannes het gesien hoe die hemel opgerol word soos ‘n boekrol (v.14). Dié beeld kom uit Jes.34:4 waar die Here vir Edom geoordeel het:  “En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos ‘n boek en al sy leërskare val af soos ‘n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom.”  Die Here sou nou vir Israel opgerol het soos ‘n boekrol, en eenkant neergesit het.

 

Die berge en eilande is uit hulle plekke uit verwyder (v.14, 16:19-20). In Nah.1:5, Hab.3:6, 10, Jer.4:23-24 het die berge voor die Here weggesmelt en gebewe toe Hy vir Assirië, Juda en Israel deur die Babiloniërs geoordeel het.  In Jes.2:11-12, 14 en Jer.51:25 het God dié wat hulleself soos die berge verhef het, afgebring aarde toe.  In v.14 sou Hy so gedoen het met Israel.  Weereens moet ons verstaan dat v.14 simboliese taal gebruik, want as elke berg voor die Here verdwyn het, kon die mense in v.15 nie in die berge weggekruip het, of in v.16 vir die berge geroep het om op hulle te val nie.

 

So verskriklik was die oordele dat geen mens of weermag voor die Here kon staan nie (v.17, Ps.76:8, Joël 2:11, Nah.1:6, Mal.3:2). Konings, adelikes, generaals, rykes, invloedrykes, slawe, vry mense – almal het in die rotsskeure en die grotte van die berge weggekruip (v.15, Jes.2:10, 19, 21).  Toe hulle God se kinders mishandel het, moes húlle in grotte weggekruip het, maar nou het die wiel gedraai (v.15, Heb.11:38).  Hulle kon nie vir die Here weggekruip het nie (Gn.3:8), en het gewens dat die berge se rotse op hulle koppe inmekaar moes sak (v.16, Hos.10:8).  Eerder dít as om in die rooi oë van God se oordeel in te kyk.  Volgens Jesus sou dié dinge in Johannes se leeftyd in Jerusalem gebeur het (Lk.23:27-31).

 

Alhoewel ek met my hele hart in die wederkoms glo, dink ek nie dat die sesde seël in v.12-17 daarna verwys nie. Die sewende seël was immers nog nie eers oopgemaak nie, en daar is ‘n volle 13 hoofstukke voordat ons by die finale oordeel in hfst.20 kom.  As Op.6 die wederkoms beskryf het, sou Johannes nie hfst.7-19 geskryf het nie, maar dadelik na hfst.20 toe gespring het.

 

Johannes se terme is dieselfde as die Ou Testament profete s’n toe hulle God se oordele oor Israel en die ander nasies voorspel het. Ons hoef dan nie aan te neem dat Op.6 van Jesus se wederkoms praat nie.  Jesus self het hierdie terme gebruik toe Hy van God se oordele oor Jerusalem gepraat het (Mt.24, Lk.21, 23).  Toe die Jode vir Jesus se bloed geroep het, het hulle in Mt.27:25 gesê dat God sy Seun se bloed van hulle en hulle kinders se hande kan eis.  God het hulle op hulle woord geneem en in 70 n.C. sy oordele soos ‘n vrag bakstene op hulle laat neerkom.  God het nie die Jode se gruwelike misdaad van die kruis ligtelik opgeneem nie.

 

Dalk is jy nie oortuig van my siening oor Op.6 nie. Ek gaan nie ‘n kwessie daarvan maak nie.  Ten minste kan ons saamstem dat die oordele van God erger is as enige monster in Hollywood se ‘bangmaak films’.  Jy kan nie vir Hom wegkruip nie (v.15-17).  Hy sien alles en is oral.

 

As jy probeer om in die doderyk weg te kruip, sal Hy jou kom uithaal. As jy in die sterrehemel wegkruip sal Hy jou dáár gryp en neerbring.  As jy op ‘n hoë berg klim sal Hy jou uitsoek.  As jy in die diepste see wegkruip, sal Hy vir ‘n dodelike seeslang sê om jou te byt.  Hy sal toelaat dat jou vyande jou doodmaak (Am.9:2-4).  Dié wat probeer om vir God weg te kruip, is soos iemand wat vir ‘n leeu vlug en in ‘n beer in vashardloop (Am.5:19).  Moet dan nie maak of Satan en die Antichris die gevaarlikste karakters in Openbaring is nie; God en die Lam is (v.17).

 

As jy gered is, hoef jy nie bang te wees nie. In Jes.54:10 sê die Here:  “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.”

 

As jy egter in ongehoorsaamheid en sonde lewe, moet jy baie bang wees.  Laat dié dinge vir jou ‘n voorsmakie van die wederkoms, die finale oordeel en die hel wees.  Ek wens dit nie vir my grootste vyand nie.  Dit sal beter wees om ‘n duisend keer dood te gaan as om onder God se oordeel in die hel te beland.  “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Heb.10:31).

 

Hoe gaan jy eendag voor die Here staan as jou sonde nie vergewe is nie, en Hy jou geheime sondes aan die lig bring? Moet asseblief nie dink dat die Here jou gaan oorsien omdat jy arm is, of dat Hy jou gaan voortrek omdat jy ryk is nie (v.15).  Moet ook nie die fout maak om te dink jy is oppad hemel toe, omdat jy bang is vir die hel nie (v.16).  Dit gaan iets meer verg as dít om jou van God se oordeel te red.  Daar is net een manier om van sy oordeel te ontsnap:  Jesus se kruisdood.

 

Toe Jesus aan die kruis gehang het, het die son opgehou skyn (Lk.23:44-45). Daar was ‘n groot aardbewing (Mt.27:51).  Die volle toorn van God het oor sy Seun gekom.  Vir ons sonde het sy Vader Hom gestraf (Jes.53:10, Mt.27:46).  Om ons van die oordeel te red was Hy bereid om in ons plek sonde te word en deur God vervloek te word (2 Kor.5:21, Gal.3:13).  Die fisiese lyding van die kruis kan nie naastenby hiermee vergelyk word nie.  Die kruis was ‘n miljoen keer erger as die hel, omdat Jesus nie net die straf van een sondaar op Homself geneem het nie, maar miljoene mense s’n.

 

O, laat ons lief wees vir hierdie Verlosser. Laat ons deur geloof in die sterk toring en agter die Rots van Jesus Christus skuil, sodat die toorn van God ons nie kan seermaak nie.  As jy na Jesus toe vlug sal jy veilig wees:  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rm.8:1).  Maar as jy Hom verwerp en met jou sonde aanhou, sal die storm van God se oordeel die plankhuisie van jou selfregverdige lewe tot die uiterste toe verwoes – vir ewig!

 

Aardrykskunde was seker my gunsteling vak toe ek op skool was. In een klas het die onderwyser ons van die oog van die sikloon vertel:  rondom jou kan die storm woed, maar as jy in die oog is, is daar nie reën of wind nie – jy is veilig.  So is dit ook in die geestelike realm.  Die storm van God se oordeel kan verwoesting saai rondom jou.  Maar as jy in Jesus, die oog van die storm glo, is jy veilig.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder fig; fig-tree

‘n Gebed vir geregtigheid

Dallas shooting

Suid-Afrikaners is moeg vir die gemors in ons land. Oor die afgelope twee jaar het ek keer op keer gehoor hoe mense sê:  ‘Dit help nie eers jy gaan na die polisie toe nie, want hulle doen niks aan die saak nie.’  Ons weet dat baie polisiemanne korrup is.  Daar is selfs skelms wat in polisie uniforms rondloop en mense beroof of selfs doodmaak.  Wat moet ons doen?  In Lk.18:1-8 gee Jesus vir ons die oplossing.

 

Die gelykenis (v.1-5)

Soos wat jy weet het prokureurs ‘n reputasie. In ‘n preek van John MacArthur vertel hy van ‘n prokureur in hulle gemeente wat ‘n kollega na ‘n erediens toe genooi het.  ‘Wat gaan jy kerk?’ het die kollega gevra.  ‘Grace Community Church,’ het die prokureur gesê.  ‘Wat!  Ek sal nooit na julle kerk toe kom nie.  Die skelmste prokureur in Los Angeles gaan soontoe,’ het sy kollega vir hom gesê.

 

Die prokureur het die storie vir MacArthur vertel. Toe MacArthur daardie Sondag in die kansel staan, het hy die storie vir die gemeente vertel en gesê:  ‘Ek weet nie watse een van julle prokureurs dit is nie, maar ek wens jy wil jou lewe regkry.’  MacArthur het grappenderwys gesê dat 26 prokureurs hulle daardie dag bekeer het.  Net soos die skelm prokureur na wie hý verwys het, was daar in Jesus se storie ‘n onregverdige en korrupte regter.

 

In die vorige gedeelte het Jesus van Homself as die Koninkryk van God gepraat wat in die volk se midde was (17:20-21). Omdat hulle die Messias nie erken het nie, sou hulle later begeer het om Hom te sien (17:22).  Hulle sóú Hom gesien het… in sy oordeel (17:24).  Hy moes eers gely het en deur hulle verwerp word (17:25).  Daarna sou Hy teen hulle gekom het, soos wat Hy in Lot se tyd teen Sodom gekom het, en teen die wêreld in die tyd van Noag (17:26-30).

 

Jesus het nou ‘n gelykenis vertel, omdat Hy vir sy dissipels wou leer dat hulle altyd moes bid en nie moed verloor nie (v.1). Dit was veral in die vorige konteks van verdrukking en oordeel wat hulle in gebed moes volhard (21:36, Rm.12:12).  Tog moet ons ook Jesus se lering in die algemeen toepas, en selfs in tye van voorspoed volhard (11:8-9, Gn.32:26, Hd.1:14, 2:42, 6:4, Ef.6:18, Kol.4:2, 12, 1 Ts.5:17, Heb.5:7).

 

Jesus het dit soos volg geïllustreer. In ‘n sekere stad was daar ‘n regter wat nie die Here gevrees het nie, en ook nie respek gehad het vir sy medemens nie (v.2).  Dit is veilig om te sê dat hy, soos die regters en prokureurs in Suid-Afrika, skelm en korrup was (Eks.18:21, 2 Kron.19:7, Ps.82).  Hy het seker die goddelose voorgetrek, terwyl hy weduwees en weeskinders onderdruk het (Eks.22:22-24, Dt.10:18, 24:17, Ps.68:6).  Dit het hom nie gepla om vir ‘n paar honderd shekels die reg te verdraai nie.  Hy het die regverdiges toegesluit en die goddelose vrygelaat (Sp.17:15).  Sy eie sak was vir hom die belangrikste.

 

Daar was ‘n weduwee in hierdie stad (v.3). Ons moet haar nie vergelyk met ‘n weduwee in 2016 wat by een of ander Medi-Clinic werk en byna R10 000 per maand verdien nie.  Soos meeste weduwees in die Bybel se tyd was sy sonder ‘n inkomste.  Sy was ‘down & out’.  Boonop het iemand haar skade aangedoen.  Sy het aanhoudend na die plaaslike regter toe gegaan en gevra vir geregtigheid (v.3).  Sy het geen ander heenkome gehad nie, niemand wat haar saak kon beveg nie.  In hedendaagse terme kan ons sê dat sy nie ‘n prokureur kon bekostig nie.

 

Vir ‘n ruk lank het die regter geweier om haar te help (v.4). Miskien het hy gehoop dat sy geld geërf het, en dat sy daaruit vir hom ‘n omkoopgeskenkie kon gee.  Maar later kon hy dit nie meer hou nie, en het hy vir homself gesê:

 

‘Ek vrees nie die Here nie en het geen begeerte om sy wette te gehoorsaam nie. Ek het ook nie respek vir mense nie.  Ek gee nie om dat onreg seëvier nie; solank ek net my geld kry.  As die bedrag reg is, kan ek iemand stuur om die getuies ‘uit te haal’ en seker maak dat die bewyse wegraak.  Maar hierdie vrou het my gewen.  Sy is ‘n pyn in die nek, en is soos ‘n bull terrier wat net nie wil los nie.  Sy is elke dag hier.  Ek is siek en sat vir haar gekerm.  As ek haar van my rug wil afkry, moet ek vir haar geregtigheid gee.  Daar is nie ‘n ander manier om van haar ontslae te raak nie.  As ek dit nié doen nie, sal sy nie ophou totdat sy my teen die grond het nie.  Sy sal my mal maak.  Ek beter vir haar geregtigheid gee’ (v.4-5).

 

Die les (v.6-8)

Jy het seker gesien wat verlede week in Dallas in Amerika gebeur het? Omtrent ‘n halfdosyn polisie beamptes is doodgeskiet, en nóg soveel is gewond.  En dit lyk of hierdie tendens besig is om toe te neem.  Die klag is dat die Amerikaanse polisie ongewapende swart mense doodskiet.

 

In Suid-Afrika word die media verbied om die waarheid oor dit wat in ons land aangaan, na die buiteland toe te versprei. Ongeregtigheid kraai koning.  Ons weet nie hoe lank Christene in die weste nog vry sal wees nie.  Om in ons land na die die polisie en howe toe te hardloop help nie.  Sp.29:26 sê:  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die Here.”

 

Net soos wat dit nie gehelp het om by Farao te kla nie (Eks.5:15), help dit nie om na ‘n beter politieke party te kyk vir die oplossing nie. Ons moet tot die Here roep en bid dat Hy sal ingryp.  Ons moet vir die regering bid, sodat ons ‘n stil en rustige lewe kan lei (1 Tm.2:1-2).  Maar ons moet ook bid dat die Here se Koninkryk sal kom (Mt.6:10).  En ons moenie ophou om te bid totdat dit gebeur het nie.  Ek glo dat dít o.a. die les van hierdie gelykenis is (v.6-8).

 

Jesus het vir sy dissipels gesê om op te let hoe ‘n onregverdige regter deur die weduwee se volharding oorwin is.  Hoeveel te meer sou ‘n regverdige Regter nie geregtigheid vir sy kinders gegee het nie (v.6-7)?  Dit was nie nodig om die Here se arm te draai nie.  Hy sou nie moeg en moedeloos geword het nie.  God is nie soos ‘n ma wat vir haar kinders lekkers gee, om hulle onder haar voete uit te kry nie:  Hy antwoord nie ons gebede, omdat Hy van ons ontslae wil raak nie (v.4-5).  Dit is met goeie en suiwer motiewe wat die Here sy kinders help.  Hy doen dit regtig omdat Hy hulle liefhet en vir hulle omgee (v.7).

 

Hy het ons uitverkies en liefgehad voordat Hy die wêreld gemaak het (Jer.31:3, Ef.1:4-5). En as Hy ons só liefhet, sal Hy nie ook hoor as ons tot Hom bid nie (Rm.8:32)?  Sal Hy nie vir sy kinders opstaan wanneer hulle teen onregtigheid bid nie (v.7)?  Die feit dat hulle uitroep, wys dat hulle desperaat is (v.7).  Die feit dat hulle tot die Here roep, wys dat daar geen ander hulp is nie (v.7).  Die feit dat hulle dag en nag uitroep, wys dat hulle dag en nag verdruk word (v.7).  Die feit dat hulle in die nag bid, wys dat die probleem hulle uit die slaap uit hou (v.7).  Hulle bid inderdaad sonder ophou soos wat v.1 sê.

 

Let op dat hulle nie die gereg in eie hande neem nie – hulle vertrou die Here.  Hý sal hulle vyande oordeel (Gn.18:25, Ps.82:8).  Hý sal die Jode oordeel wat sy kinders vervolg en doodmaak (1 Ts.2:14-16).  Hý sal die Romeine se weermag in 70 n.C. stuur om Jerusalem en die tempel te verwoes.  Hy sou dit binne 40 jaar ná sy lering in Lk.18:1-8 gedoen het – ‘spoedig’ soos Hy in v.8 sê.  Die bloed van die martelare sou vergeld word (Op.6:10-11, 2 Ts.1:6-10).  Die smeekgebede van God se kinders sou verander het in lofprysing, omdat Hy geregtigheid sou bring (Op.16:5-7, 18:20, 19:1-3).

 

Wanneer dit voel of die Here lank vat, is dit net om die uitverkorenes wat nog nie gered is nie in te bring (v.7, 2 Pt.3:9). Soos met Paulus, mag dit wees dat die Here party van die vervolgers red.  Wanneer Hy al sy skape ingebring het, sal Hy kom om sy vyande te oordeel.  Hy ken die diepste geheime van elke mens se hart en lewe, en kan daarom regverdig oordeel (Rm.2:16).  Hy sal seker maak dat reg en geregtigheid geskied (v.8).  Hy sou nie net die Jode en die Romeine nie, maar ook die Moslems, Nazi’s, kommuniste, en elke ander vyand van die evangelie oordeel.

 

Maar hoeveel getroue en biddende mense sal daar op die aarde wees wanneer Jesus kom om sy vyande te oordeel (v.8)? Sal dit wees soos in die dae van Noag?  Of soos Sodom toe God vir Lot en sy gesin gered het (17:26-32)?  Sou die gelowiges in gebed volhard het, totdat Jesus gekom het om die Jode te oordeel?  Jesus het gesê dat die toenemende goddeloosheid tot gevolg sal hê dat die liefde van baie verkoel (Mt.24:12).  Sal ons in gebed volhard totdat die Here weer kom?  Dit lyk vir my of die volharding waarvan Jesus in Mt.24:13 praat o.a. gebeur deurdat ons in gebed volhard (v.8b).  Ook uit Jud.20-21 lyk dit of die Here ons deur gebed tot die einde toe sal bewaar.

 

Ons moet aanhou om vir geregtigheid te bid en nie moed verloor nie (v.1, 7). Hoeveel Christene ken jy wat volgens 1 Tm.2:1-2 vir ons land bid?  Alhoewel ek dit doen, moet ek bieg dat ek dit nie genoeg doen nie.  Wanneer laas het jy vir ‘n ware herlewing gebid?  Wanneer laas het ons bidure hiervoor gehad?  Hoeveel van die mense in ons gemeente bid enigsins saam met ander gelowiges?  Lees gerus hoe die gelowiges in Handelinge hulleself aan gesamentlike gebed gewy het (Hd.1:14, 2:42, 4:23-31, 12:5, 13:3, 14:23, 20:36, 21:5).

 

Moet die ongeregtigheid in Suid-Afrika en die wêreld ons nie in gebed na die Here toe dryf nie? Hoekom het selfs Christene begin om politieke, sosiale, ekonomiese, opvoedkundige, tegnologiese en morele oplossings te soek, eerder as om in gebed na die Here toe te draai?

 

In die 1700’s het die Britse Parlement met hulle hande in hulle hare gesit. Armoede en misdaad het teen ‘n astronomiese tempo toegeneem.  Selfs toe die doodstraf vir 126 verskillende misdade opgelê is, kon die regering nie die verval keer nie.  Daar was tot skole om vir kinders en volwassenes maniere te leer, maar dit het nie gehelp nie.  Dronkenskap het oorgeneem en tronke was oorvol.  Soos Frankryk, het Engeland op die punt van ‘n bloedige revolusie gestaan.  En toe het die Here vir George Whitefield en John Wesley opgewek.  Engeland is op sy kop gekeer.  Mense het by die tien duisende tot bekering gekom, sodat die morele waardes van die hele Brittanje drasties verbeter het.[1]

 

In dieselfde tyd het dinge in New England in die V.S.A. versleg. Immoraliteit, vuil taal en dronkenskap was aan die orde van die dag.  Jonathan Edwards het sy gemeente aangespoor om te bid.  Stadig maar seker het dinge begin om te verander.  En toe kom die herlewing.  Godvresende gesprekke en lewens het die goddeloosheid verdryf soos wat suiwer vloeiende water ‘n besoedelde poel skoonwas.[2]

 

Soos Amerika en Engeland in die 1700’s, is ons en die res van die westerse wêreld sterk op die afdraende pad. Soos in Gn.4:17-24 kan ons ons omgewing beheer, maar nie ons harte nie.  M.b.t. die tegnologie neem ons reuse spronge, en tog kan ons nie keer dat laerskool kinders en studente geboue afbrand nie.  Jesus is ons enigste hoop.  As ons Hom op sy Woord neem en met volharding bid (v.1), sal Hy ons volgens sy belofte in v.7-8 verhoor en sorg dat geregtigheid seëvier.

 

Kan die Here nie weer ‘n herlewing stuur soos in die tyd van Andrew Murray nie? Sal jy erns maak om hiervoor te bid – in jou stiltetyd en gesin, in eredienste en bidure?  Sal ons die Here smeek om geregtigheid in ons bose land en wêreld te bring?  Miskien doen Hy dit nie deur ‘n magtige herlewing nie.  Miskien laat Hy toe dat daar ‘n oorlog uitbreek.  Ek dink nie dit is verkeerd om soos die psalmdigters te bid dat die Here die slegte mense sal verwyder nie.  Ons bid immers dat Hý dit doen, en neem nie self wraak nie (v.7, Rm.12:19).

 

Dalk bring die Here geregtigheid deur sy Seun uit die hemel te stuur. Sal dit nie die beste van alles wees nie?  Mag die Here gou kom en ons vind waar ons besig is om te bid (v.8).  Ons moenie ophou om te bid nie (v.1).  Miskien het jy moedeloos geword.  Ons gemeente groei nie, en vir die Christelike kerk in Suid-Afrika lyk dit maar bleek.  Ons eie denominasie sukkel om kop bo water te hou.  Op die oppervlak lyk dit of die kerk in Suid-Afrika niks beteken nie.  Ons is soos ‘n mol wat probeer om ‘n berg te skuif.  Dit lyk of God se kinders nie ‘n duik maak in die samelewing nie.  Dit voel of die omstandighede vir ons te veel geword het, sodat duisende Christene die land verlaat.  Sommige kerke het besluit om die handdoek in te gooi en hulle by die wêreld te skaar.

 

Daar is niks tasbaar om vir ons te wys dat God gaan deurkom nie. Soos Gideon wil ons nie deur die geloof lewe nie; dit sal mos makliker wees as die Here net vir ons ‘n teken wil gee om te sê dat alles op einde sal uitwerk.  Maar daar is niks nie:  net gebed, geloof en die Bybel se beloftes.  Die feit dat ons niks kan sien nie, en dat gebed ook harde werk is, maak dit nie makliker nie.  Dit is ‘n uitdaging om aan te hou bid.  Jesus sê jy moenie opgee nie.  God sal op die regte tyd, plek en wyse ons gebede beantwoord (v.1, 7-8).

 

Is jy dalk ‘n twyfelaar wat sê: ‘Hoe weet ek die Here sê nie nee nie?  Hy het vir Moses, Jesus en Paulus nee gesê (Dt.3:26, Mt.26:44, 2 Kor.12:8-9)?  Wie sê dat Hy nie ook vir my nee sê nie?  Sal ek verniet aanhou bid as die Here nie my gebed wil beantwoord nie?  Dan help dit mos nie ek bid nie, of hoe?’

 

God, wat nie kan lieg nie, het belowe dat Hy ons gebede vir geregtigheid sal beantwoord (v.7-8). Hy het nie gesê hoe Hy dit gaan doen nie.  Ons weet dat Hy verseker weer na die aarde toe sal terugkeer, dat Hy ons in geregtigheid gaan oordeel, en dat Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gaan maak waarin daar geregtigheid woon (2 Pt.3:13).  Moet dan nie ophou om daarvoor te bid nie.

 

As dit wat ek vandag gesê het jou nie pla nie, en as jy nie ‘n begeerte hiervoor het nie, moet jy wonder of jy gered is. Volgens v.7 is dit God se uitverkorenes wat in gebed volhard, en wat vir geregtigheid bid.  As jy nog nie die Here ken nie is dit nie jou plig om te bid dat Suid-Afrika sal regkom nie.  Jou eerste plig is om te bid dat die Here nie geregtigheid vir jou sal gee nie, omdat dit sal beteken dat jy reguit hel toe gaan.  Bid dat die Here vir jou barmhartigheid en genade sal gee, en dat Hy jou sondes sal vergewe.  Erken dat jy verlore is, en roep uit dat die Here jou sal red (Rm.10:13).

 

Dank die Here dat Jesus ons sonde op Homself geneem het aan die kruis, en dat God se geregtigheid Hom daar vir ons gestraf het. As jy in Christus glo en op Hom vertrou, sal God verklaar dat jy regverdig en onskuldig is.  As jy dan op die oordeelsdag voor Hom staan, sal sy geregtigheid vereis dat Hy jou nie hel toe stuur nie, omdat Jesus reeds die straf vir jou sonde op Homself geneem het.  God straf nie twee keer dieselfde sonde nie.  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rm.8:1).

 

Ek onthou vaagweg ‘n gesprek wat ek met ‘n sendeling gehad het. Hy het in Etiopië gewerk.  Hy het vertel hoe die mense vreesbevange was vir die polisie, omdat hulle jou sommer doodskiet as jy ‘n brood steel.  Om ‘n skelm te vang en hom toe te sluit is geregtigheid.  Om hom dood te skiet omdat hy ‘n brood steel is nie.  Daarom kan ons nie op mense staatmaak vir volmaakte geregtigheid nie.  Daarvoor moet ons in gebed na die Here toe draai.

 

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: 2 vols.

[2] The Works of Jonathan Edwards: vol.1, Memoirs of Jonathan Edwards

Hoe moet ons Openbaring verstaan?

Four horsemen

Na my mening is Openbaring die moeilikste boek in die Bybel. Godvresende manne verskil oor hoe die boek geïnterpreteer moet word.  John MacArthur glo dat dit oor die kort tydperk voor Jesus se wederkoms handel.  William Hendriksen glo dat die dinge waarvan ons in die boek lees, aanhoudend in die geskiedenis vervul word.  R.C. Sproul glo dat die oorgrote meerderheid van die boek in Johannes se tyd vervul is.  As groot manne op hierdie punt van mekaar verskil, dan moet ons Openbaring met ‘n nederige gesindheid aanpak.  Ek glo dat die eerste agt verse vir ons ‘n goeie idee sal gee van hoe ons die res van die boek moet interpreteer.

 

Die Here se openbaring (v.1-2)

In die begin van die jaar het ek met ‘n vriend oor die eindtyd gepraat. ‘Ek verstaan dit nie regtig nie, en dit pla my ook nie baie nie,’ het ek gesê.  My vriend het my oor die vingers getik:  ‘God het dit in die Bybel gesit, sodat ons dit kan verstaan en gehoorsaam.’  In die praktyk het baie van ons net 65 boeke in ons Bybels.  Ons lees nie graag Openbaring nie, maar vermy dit as ons kan.  En tog het God dit in die Bybel gesit, sodat ons daaruit kan leer en dit kan doen (v.3).

 

Openbaring is in simbole geskryf om die kerk se vervolgers te verwar (bv. 13:18, 17:9, Mt.13:13). Vir óns hoef dit egter nie verwarrend te wees nie, omdat dit ‘n openbaring of bekendmaking van God se oordeel oor sy vyande is (v.1, Gk. apokalupsis).  Die boek is soos volg gegee:  God die Vader ” Jesus Christus ” die engel ” Johannes ” die sewe gemeentes in die Wes-Turkse provinsie van Asië (v.1, 4, 11).

 

Jesus het die boek gegee om vir sy diensknegte (v.1, 7:3, 1:18, 19:5) te wys wat binnekort sou plaasvind. Die Griekse woord vir ‘binnekort’ of ‘gou’ (Gk. tachos) beteken presies dít, en word ook in die res van die Nuwe Testament so gebruik (vgl. Hd.25:4, 12:7, 22:18).  Toe Daniël sý visioene gesien het, moes hy dit vir die verre toekoms verseël het (Dn.12:4, 9).  Johannes se visioene daarenteen moes geopenbaar word, omdat die tyd naby was (v.1, 3, 22:10).

 

Omdat dit só is kan ek nie saam met dié gaan wat sê dat Op.4-19 net vir die toekoms bedoel is nie (‘n futuristiese benadering).  Die grootste deel van die boek handel oor die dinge wat binnekort moes plaasvind (v.1), en nie oor helikopters en drake in die eindtyd nie.

 

As die boek o.a. die val van Jerusalem in 70 n.C. voorspel, moet ons kan bewys dat dit voor daardie datum geskryf is. Ek glo dat daar genoegsame bewyse is hiervoor.

 

[1] Volgens 11:1-2 staan die Jersualemse tempel nog. Johannes sê dat Jerusalem vir 42 maande deur die heidene vertrap sou word (vgl. Lk.21:20, 24).  Volgens die geskiedenis het dit inderdaad so gebeur.

 

[2] In 17:9 praat Johannes van ‘n stad wat op sewe berge gebou is. Die eerste lesers sou verstaan het dat hy van Rome praat.  In 17:10 sê hy dat vyf van die stad se konings geval het, dat een huidiglik regeer, en dat een nog kom.  Wanneer hierdie sewende een kom, sal hy net vir ‘n kort tydjie regeer.  Julius, Augustus, Tiberius, Caligula, en Cladius is die vyf keisers wat geval het.  Nero was aan bewind toe Johannes Openbaring geskryf het.  Ná Nero het Galba vir ‘n kort tydjie van ses maande regeer.[1]

 

[3] In 13:18 praat Johannes van die 666 of die merk van die dier. In Johannes se tyd het hulle nie getalle gehad soos ons nie, maar het hulle die letters van die alfabet gebruik om mee te tel.  In die Romeinse alfabet is I = 1, V = 5, X = tien, L = 50, C = 100, ens.  In Hebreeus werk dit ook so.  As ‘n mens die getal-waarde van die letters in ‘keiser Nero’ se naam bymekaar tel (in Heb. is dit Nrwn Qsr) kom dit uit op 666.[2]  As ‘n mens dit in Latyn skryf is die waarde van die letters in sy naam 616.  In die English Standard Version het 13:18 ‘n voetnota wat sê:  ‘Some manuscripts 616.’  Volgens 13:18 kon die eerste lesers uitgewerk het wie die dier met die 666 is.  Dit moes dan iemand in hulle eie tyd gewees het.

 

[4] Die sterkste argument vir dié wat sê dat Openbaring tussen 90 en 95 n.C. geskryf is (tydens die heerskappy van keiser Domitianus), is ‘n stelling van die kerkvader Ireneus wat in die tweede eeu geleef het. Ireneus het by Polikarpus geleer, wat op sy beurt vir Johannes geken het.[3]  Ireneus het gesê dat ‘[hy of dit] nie lank gelede gesien is nie, maar byna in ons eie dag, teen die einde van Domitianus se heerskappy.’[4]

 

M.a.w. volgens hierdie mense het Johannes die visioene van Openbaring aan die einde van Domitianus se heerskappy gesien. Maar dit is nie duidelik of Ireneus sê dat ‘dit’ (die visioene van Openbaring) of ‘hy’ (Johannes) aan die einde van Domitianus se tyd gesien is nie.  As hy bedoel het dat Johannes in Domitianus se tyd gesien is, dan kan ons nie met sekerheid sê dat Openbaring tussen 90 en 95 n.C. geskryf is nie.

 

Daar is nog argumente vir beide kante van die saak. As jy meer wil weet kan jy vir ‘n latere datering, More than Conquerors van William Hendriksen lees.  Vir ‘n vroeë datering (voor 70 n.C.) kan jy Kenneth Gentry se boek, Before Jerusalem Fell lees.  Daar is ook ‘n boek beskikbaar met die titel, Four Views on the Book of Revelation (saamgestel deur C. Marvin Pate).

 

Jesus het ‘n engel gestuur om die inhoud van die boek aan Johannes bekend te maak (v.1, vgl. 17:1, 21:9, 22:1). Wie is die Johannes van wie ons hier lees?  Kerkvaders soos Justin Martyr, Melito van Sardis, Papias, Ireneus, Clement van Aleksandrië, Tertullianus, Origenes van Aleksandrië, en Hippolitus (almal uit die tweede en derde eeu n.C.) het gesê dat dit Johannes die apostel is.[5]

 

Sekerlik is daar nie ‘n ander Johannes wat net sy naam kon skryf, sodat almal geweet het wie hy is nie?[6]  Verder is daar ooreenkomste tussen Openbaring en die Johannes-Evangelie (bv. Jesus as die Lam van God en die Woord van God.).  Die Grieks in die Johannes-Evangelie is soos ‘n nuut-geteerde pad, terwyl die Grieks in Openbaring soos ‘n grondpad is.  Die rede is waarskynlik omdat Johannes ‘n sekretaris gehad het toe hy sy Evangelie geskryf het (soos Paulus in Rm.16:22).  Toe hy Openbaring geskryf het, was hy alleen op die eiland Patmos (v.9), en het hy nie ‘n sekretaris gehad nie.

 

Johannes het hierdie visioene met sy eie oë gesien (v.2). En dit was as gevolg van hierdie getuienis van Jesus en die Woord van God, wat hy na die eiland Patmos toe verban is (v.2, 9).  Die gelowiges vir wie hy geskryf het, is op grond van dieselfde getuienis vervolg (6:9, 12:17, 19:10).

 

Moenie bang wees om Openbaring te lees nie. Moenie dink dat gewone mense dit nie kan verstaan nie.  Ek sê nie jy moet sommer net inklim nie.  Selfs Petrus het gesê dat sommige verse oor die wederkoms moeilik is om te verstaan (2 Pt.3:15-16).  Maar die feit dat dit moeilik is, beteken nie dit is onmoontlik nie.  Om Openbaring te verstaan moet jy dit reg interpreteer.  En hoe is dit?

 

Die algemene reël wanneer dit by Bybel-interpretasie kom, is dat jy dit letterlik moet interpreteer, dat jy woorde en sinne moet bestudeer, dat jy die konteks in ag moet neem, en dat jy die historiese agtergrond moet onthou. Om iets letterlik te interpreteer beteken nie jy ignoreer die literatuursoort nie.  Om Ps.23 reg uit te lê, moet jy onthou dat dit poësie is.  Ons kan nie die Psalm lees en tot die slotsom kom dat Jesus ‘n skaapwagter van beroep is, of dat Christene wol, kort sterte en hoewe het nie.  Jesus is soos ‘n skaapwagter wat vir ons omgee, en ons is soos skape wat rigtingloos is sonder Hom.

 

Wanneer jy Openbaring interpreteer, moet jy onthou dat dit ‘n profetiese boek vol van beelde en simbole is (v.3). Jy kan nie self besluit wat die simbole beteken nie, maar moet die oorspronklike simbole in die Ou Testament opsoek.  As jy bv. in Op.13:1 van ‘n dier met tien horings en sewe koppe lees, moet jy Dn.7:17 naslaan.  Daar sal jy sien dat hierdie diere simbolies is van magtige konings.

 

As jy na deeglike studie nogsteeds oortuig is dat Openbaring meestal van die toekoms (of die hede) praat, goed so. Onthou asseblief dat jy iets kan leer by dié wat anders dink as jy.  Kry gerus Steve Gregg se kommentaar waarin hy die vier sienings verduidelik.[7]  Moenie met ander gelowiges hieroor stry en baklei nie.  Stem eerder saam oor die basiese waarheid van Jesus se wederkoms en die finale oordeel.

 

Die Here se seënwense (v.3-5a)

‘n Paar weke gelede het ek vir ‘n kollega gesê dat ek ‘n reeks in Openbaring wil begin. Ek het vir hom gesê dat ek na ‘n sekere interpretasie toe neig, en dat groot dele van die boek reeds in Johannes se tyd vervul is (natuurlik nie die dele oor die wederkoms en die finale oordeel nie).  Hy het vir my gevra:  ‘As groot dele van die boek vervul is, wat beteken dit vir ons?’  My reaksie was:  ‘As Jes.53 en tekste oor Israel se ballingskap vervul is, wat beteken dit vir ons?’  Die feit dat gedeeltes in Openbaring en die res van die Bybel vervul is, beteken nie dat daar geen toepassing is vir ons nie.  Alles in Openbaring is ook op ons van toepassing (2 Tm.3:16-17).

 

Daar is ‘n belofte van seën vir die leraar wat die profesie van hierdie boek hardop lees, maar ook vir die gemeente wat dit hoor en doen wat daarin geskryf staan (v.3, 2:1, 12, 18, 3:1, 7, 14, vgl. 22:7, Lk.11:28). Omdat die boek ‘n profesie genoem word, gaan dit oor spesifieke gebeure.  Ek kan daarom nie saam met die idealiste (soos William Hendriksen) stem wat sê dat die boek oor en oor in die geskiedenis vervul word, en dat dit nie met spesifieke gebeure te doen het nie.[8]

 

Johannes het sy brief aan die sewe gemeentes in Asië gerig (v.4). Die gemeentes is nie voorstellings van verskillende tydperke in die kerk se geskiedenis nie, maar is sewe historiese gemeentes in die eerste eeu:  Efese, Smirna, Pergamus, Tiatire, Sardis, Filadelfia, en Laodisea (v.11).  Die dorpe waarin die kerke geleë was, het in ‘n hoefyster vorm aan die weste kant van moderne Turkye gelê.  Dit is nie net hfst.1-3 wat vir hierdie kerke bedoel was nie.  Volgens 22:16 is die hele boek is vir hulle geskryf.

 

Deur hierdie brief het die Here genade en vrede vir sy vervolgde kinders belowe (v.4). Hierdie genade en vrede het van die Drie-Enige God af gekom (v.4-5a):

 

[1] Die Vader wat was, wat is, en wat kom (v.4, Ps.90:2, Eks.3:14).

 

[2] Die sewe Geeste wat voor die troon van God is (v.4). Die getal sewe kom 54 keer in Openbaring voor en spreek van volmaaktheid.  In 1:4 praat hy dan van die sewevoudige of volmaakte Gees van God (3:1, 4:5, 5:6, Sg.4:2, 6, Jes.11:2).

 

[3] Jesus Christus. Hy is die getroue getuie van God wat nie kan lieg nie (v.5a, 3:14, 19:11, Jh.18:37, 1 Tm.6:13).  Hy is die eerste Een wat opgestaan het om nooit weer te sterf nie (v.5a, Kol.1:18, Hd.26:23).  Hy is die Koning van die konings (v.5a, 19:15-16, 17:14, Ps.2).

 

Hou die belofte van seën in gedagte as jy hierdie reeks in Openbaring bywoon, op die blog volg, en probeer om dit toe te pas (v.3). Dalk stem jy nie saam met my benadering nie.  Ek wil jou vra om in elk geval saam met my deur die boek te werk.  Dalk sal my uitleg sin maak soos wat ons aanbeweeg.  Maar al stem jy nie daarmee saam nie, wil ek vra dat jy die vis sal eet en die grate uitspoeg.  Moenie so in die detail vasgevang raak dat jy die sentrale rol wat Christus daarin speel mis nie.  Kyk uit vir sy heerlikheid, Koningskap, oorwinning en die evangelie wanneer jy die boek lees en na die prediking daarvan luister.  Vra hoe jy Hóm beter kan ken wanneer jy die boek oopmaak.

 

Dalk verstaan jy nie alles oor die 666 of die vier perde nie, maar jy verstaan wel dat die Here jou eerste liefde moet wees (2:4-5), en dat jy nie geestelik lou moet wees nie (3:15-16). Ons moenie verwag dat die Here nuwe waarhede vir ons gaan leer, as ons ongehoorsaam is aan dié dinge wat vir ons duidelik is nie.

 

Vir baie gelowiges is Openbaring ‘n boek van ‘doom and gloom’, maar volgens v.3 is dit ‘n boek wat seën belowe.  Kyk dan verby die sprinkane en die bloed, en sien die seën wat God belowe vir dié wat deur moeilike tye aan Hom getrou bly (2:7, 11, 17, 26, 3:5, 12, 21).

 

Die Here se heerlikheid (v.5b-6)

Ek was eenkeer bang vir ‘n humeurige persoon wat op my geskreeu het. Die Here het my die volgende dag uit Jes.41:10-14 bemoedig.  Soos wat die Here mý bemoedig het, het Hy die gemeentes in v.3-5a bemoedig, omdat hulle binnekort vir die evangelie vervolg sou word.

 

Alle heerskappy en eer behoort aan Jesus (v.6). Die keisers van Rome se einde was voor die deur, maar aan Christus se heerskappy is daar geen einde nie (v.6, Dn.2:44).  Amen:  laat dit so wees (v.6)!

 

  • Hy het ons liefgehad en van ons sondes bevry deur sy bloed (v.5b, 1 Pt.1:19).
  • Hy het ons bevry van die straf wat oor ongelowige Israel en oor die res van die wêreld gaan kom (hfst.6-20).
  • Hy laat die wêreld se koninkryke val om van ons konings en priesters te maak (v.6, 11:15, Dn.7:14, 22, 27, 1 Pt.2:9, kontr. Eks.19:6). As konings sal ons saam met Hom op die aarde regeer (5:10). As priesters het ons direkte toegang tot die troonkamer van God (1 Tm.2:5, Hb.4:16, 10:19-22), en kan ons geestelike offers bring (1 Pt.2:5).

 

Hou Jesus se heerlikheid vooroë in die chaos wat ons land en die wêreld tans beleef. Ons hoef nie angstig te raak as studente kampusse afbrand, die president korrup is, die V.S.A. op die afdraende pad is, en ISIS Christene doodmaak nie.  Jesus Christus sal sy vyande se neuse in die grond vryf – Koninkryk sal seëvier (v.5-6).

 

Of ons nou sê dat groot dele van die boek alreeds vervul is of nie, maak nie ‘n verskil nie. Die punt is dat Openbaring dinge oor die nasies van die aarde en hulle konings voorspel.  Die feit dat God dinge oor hulle voorspel het, impliseer dat die leiers van die aarde nie kan doen wat hulle wil nie.  Hulle kan net doen wat die Here bepaal het (Ef.1:11, Dn.2:21, 4:35).

 

Die Here se koms (v.7-8)

Ek ken ‘n paar mense wat dieselfde siening oor Openbaring handhaaf as ek. Toe een van hulle ‘n reeks oor Openbaring in sy kerk begin het, het daar stories rondgeloop dat hy nie in die wederkoms glo nie.  As gevolg daarvan het mense die kerk verlaat.  Maar die waarheid is dat hierdie predikant in die wederkoms glo.

 

‘n Ander man het sy siening oor Openbaring bekend gemaak. Sy kollega was nogsteeds lief vir hom, maar was onder die indruk dat hy nie in die wederkoms glo nie.  Ek het die man gebel en gevra of hy in die wederkoms glo.  Ek het gou agterkom dat ek en hy dieselfde oor Openbaring glo en dat hy met sy hele hart in die wederkoms glo.  Moet my asseblief dan nie misverstaan nie:  ek glo in die wederkoms!

 

Wanneer Johannes sê dat Jesus op die wolke kom, praat hy nie net van die wederkoms nie (v.7). Hoe weet ons dit?  Hd.1:9 praat van Jesus wat met die wolke na die hemel toe opvaar.  Hy het in hierdie wolke voor sy Vader gekom om ‘n Koninkryk te ontvang (Dn.7:13-14).  Die lg. verse gaan nie oor die Seun van die Mens wat op die wolke na die aarde toe kom nie – dit beskryf hoe Hy na die hemel toe opgevaar het.

 

Ons weet dat Hy weer op die wolke na die aarde toe sal terugkeer (Hd.1:11). Maar volgens die Skrif sal Hy ook vóór sy finale koms op die wolke ry om sy vyande te oordeel.  Let gerus op die volgende verse:

 

  • “En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan; so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie… En in die môrewaak het die HERE, in die vuur— en wolkkolom, op die leër van die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring.” (Eks.14:19-20, 24).
  • “Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid.” (Dt.33:26).
  • “En Hy het op ‘n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het gesweef op die vleuels van die wind. Duisternis het Hy sy skuilplek gemaak, sy hut rondom Hom: duisternis van waters, diktes van wolke. Deur die glans voor Hom het sy wolke verbygetrek, hael en gloeiende kole.” (Ps.18:11-13).
  • “Godspraak oor Egipte. Kyk, die HERE ry op ‘n vinnige wolk en kom na Egipte toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig, en die hart van Egipte smelt in sy binneste.” (Jes.19:1).
  • “Kyk, soos wolke kom hy op, en soos ‘n stormwind is sy strydwaens; sy perde is vinniger as arende. Wee ons, want ons is verwoes! Was jou hart van boosheid, o Jerusalem, dat jy gered kan word. Hoe lank sal jou onheilsgedagtes in jou binneste vertoef?” (Jer.4:13-14).
  • “Want naby is ‘n dag, ja, naby is ‘n dag van die HERE, ‘n dag van wolke; die tyd van die nasies sal dit wees. Dan sal ‘n swaard in Egipte kom, en daar sal angs in Kus wees as die wat verslaan is, val in Egipte, en as hulle sy rykdom wegneem en sy fondamente afgebreek word.” (Esg.30:3-4).
  • “Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want hy is naby—‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ‘n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.” (Joël 2:1-2).
  • “Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die HERE! Bitterlik skreeu die held daar. Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag”(Sef.1:14-15).

 

Natuurlik geld die koms in v.7 ook vir die wederkoms, maar hiér hou dit direk verband met God se oordeel oor Israel, omdat hulle die Messias gekruisig het. Jesus het mos gesê dat sommige van sy dissipels (o.a. Johannes) nog by hierdie koms sou gelewe het:

 

  • “En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie.” (Mt.10:23).
  • “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.” (Mt.16:27).
  • “En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid… Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.” (Lk.21:27, 32).
  • Jesus antwoord hom [Petrus]: As Ek wil hê dat hy [Johannes] bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My. Hierdie woord het toe onder die broeders uitgegaan dat daardie dissipel nie sou sterwe nie; en Jesus het nie vir hom gesê dat hy nie sou sterwe nie, maar: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?” (Jh.21:22-23).

 

Die eindste mense wat Hom gekruisig het, sou oor Hom getreur het (v.7). Die Romeinse soldate het Hom met ‘n spies deurboor en Hom met spykers aan die kruis vasgeslaan (Jh.19:34, 37, Ps.22:17).  Tog is dit die Jode wat direk vir sy dood verantwoordelik was (Hd.2:22-23, 36, 3:14-15).  Toe Jesus gekruisig is het hulle uitgeroep:  “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Mt.27:25).  God het die Jode op hulle woord geneem en in 70 n.C. sy oordeel soos ‘n stortreën op hulle laat neerkom, sodat al die stamme van die land (v.7, Gk. ), asook die Jode wat oor die aarde versprei was, met vrees en bewing oor die Messias se oordeel getreur het (v.7, 6:16-17, Lk.23:27-31, Sg.12:10).  Die woorde ‘ja, amen’ wys dat dit sou gewees het soos wat Sagaria en Johannes geprofeteer het (v.7).

 

Alfa en Omega is die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet.  God is die Begin en die Einde van alles, die Een wat was en wat is en wat kom (v.8, vgl. 21:6, 22:13).  As Hy met sy vyande afgereken het, sou Hy vir ewig regeer het en nie ‘n opvolger tot sy troon gehad het nie (v.8, Jes.43:10).  Hy is die Almagtige wat nie net dreig nie, maar uitvoer wat Hy belowe het (v.8).

 

Die vroeë Christene het verwag dat die Here in húlle tyd sou kom om hulle vervolgers, die ongelowige Jode, te oordeel (1 Ts.2:14-16). Net so moet ons sy finale koms op die wolke verwag (2 Ts.1:7-8).  Maak seker dat jy aan die Here se kant is wanneer Hy weer kom.  As jy die Here ken sal dit ‘n dag van blydskap en verlossing wees (Hb.9:28, Jud.24).  Maar as jy Hom nie ken nie en in jou sonde volhard, sal dit ‘n verskriklike dag wees.  Jy sal wens dat jy nooit gebore is nie.  Sorg dan dat jy gereed is om voor die Here te staan.

 

Hoe kan jy jouself voorberei? Moenie een tree verder op die pad van jou sonde gee nie, maar bekeer jou na die Here toe.  Besef dat jy niks kan doen om God se vurige toorn af te weer nie.  Kry berou oor jou sonde en nie maar net oor die straf nie.  Dank en prys die Here, omdat Hý die verdiende straf van sondaars op Homself geneem het aan die kruis.  Vertrou dat Hy jou sal red as jy in Hom glo, en erken dat sy verlossingswerk jou enigste hoop is om gered te word.  God sal jou nie in sy heilige hemel duld nie, maar as jy deur geloof agter Jesus se perfekte lewe en kruisdood skuil, sal Hy jou met ope arms verwelkom.  Vir jóú sal Christus se wederkoms nie ‘n dag van verskrikking wees nie, maar ‘n dag van vrede en hoop.

 

Toe ek studeer het, het een van my dosente gesê dat hy in Amerika gepreek het. Toe sy gasheer en gasvrou gehoor het dat hy anders oor Openbaring geglo het as hulle, het hulle hom sku behandel.  Dit hoort nie so nie.  Die laaste twee sinne in ons kerk se geloofsbelydenis sê:  ‘Daar is verskeie goeddeurdagte sienings oor die eindtyd.  Dit is onnodig om skeuring hieroor in die kerk te veroorsaak.’  Dit geld ook wanneer dit by ons interpretasie van die boek Openbaring kom.

 

[1] David S. Clarke, The Message of Patmos, p.19 en Kenneth Gentry, Perilous Times, pp.121-122

[2] Gentry, Ibid, pp.127-128

[3] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.98

[4] Against Heresies V.xxx.iii aangehaal in William Hendriksen, More Than Conquerors, p.20

[5] Hendriksen, Ibid, p.19 en Carson & Moo, An Introduction to the New Testament, pp.700-701

[6] Hendriksen, Ibid, p.17

[7] Revelation: Four Views – A Parallel Commentary

[8] Alhoewel ek nie op hierdie punt met Hendriksen saamstem nie, is hy oor die algemeen ‘n uitstekende kommentator.

Hoe om te weet of jy weergebore is

Born again

Sarie oefen hard om te fluit. Al haar maatjies kan fluit, maar sy kan nie.  Sy weet as sy dit nie regkry nie, gaan haar maats môre by skool vir haar lag.  Retha dring deur na die finaal van die Master Chef kompetisie.  Sy kan alles behalwe ‘vanilla mousse’ maak.  As die beoordeelaars dít vra is sy in die moeilikheid.

 

Om te weet of jy weergebore is, is nie dieselfde as om te sorg dat jy kan fluit of ‘vanilla mousse’ maak nie. As jy dít nie kan doen nie, is die gevolge klein:  jou vriende lag vir jou of jy kom tweede.  As jy nie weergebore is nie, is die gevolge ewig, en kry jy nie ‘n tweede kans nie.  Daarom moet jy doodseker maak jy is weergebore.  In 1 Johannes 2:28-3:10 gee God ‘n toets waaraan jy jouself kan meet.

 

Jy lewe in die lig van Jesus se tweede koms (2:28-3:3)

George leef in die 1700’s en is die slaaf van ‘n ryk Britse heer. Op ‘n dag vaar sy meester Amerika toe, en vra hy dat George die fort moet hou totdat hy terugkeer.  George moet sorg dat die perde kos kry en die skape voor sononder terug is in die kraal.  Hy moet toesien dat die visse in die fontein elke week kos kry.  Elke Maandag moet hy vir sy medeslawe die week se werk uitdeel.  In die nag moet hy sorg dat die olie lampe in die huis aangesteek is.  As handelaars op die plaas aankom, moet hy met hulle onderhandel en briewe onderteken.  Vir dinees wat in die heer se huis gehou word, moet hy gaste nooi en reëlings tref.  George weet dat sy meester enige dag by die plaas kan opdaag.  Daarom doen hy goeie werk en sorg hy dat alles in orde is.

 

So moet ons uitsig na Jesus se tweede koms ons nóú help om reg te lewe. Ons moet soos Marié wees wat in Oktober trou.  Sy kan haarself al in haar trourok voor die kansel sien staan.  In haar verbeelding is sy slank met mooi hare en ‘n mooi trourok.  Hierdie vooruitsig dryf haar om in die hede gewig te verloor, te oefen, en reg te eet.  Net so moet die vooruitsig na dit wat jy by die tweede koms sál wees, jou reeds in die hede dryf om so te wíl wees.

 

As iemand nie in Jesus bly nie en agter die vals leraars aanloop (2:18-19), sal hy skaam wees as Jesus weer kom (2:28). God sal hom as ‘n vals gelowige uitwys.  Ware gelowiges is dié wat regverdig lewe soos Jesus (2:29).  Die ware gelowige is weergebore en kan met vrymoedigheid uitsien dat Jesus weer kom (2:28-29).

 

Hoe groot is God se liefde nie, dat Hy sy vyande as sy eie kinders aanneem (3:1, Johannes 1:12, Galasiërs 4:4-7, Romeine 8:15-16, Efesiërs 1:5). Dis nie net ‘n titel nie.  Dis nie dat jy net soos sy kind is nie.  Jy is dit regtig en is ‘n erfgenaam van God se Koninkryk met al sy rykdom en skatte.  Die vals leraars (die gnostici) het dit nie erken nie, maar het gesê dat húlle die ware gelowiges is (3:1).  Vals gelowiges erken ons nie, en het geen belang in die kerk nie (3:1).  Die wêreld maak asof Christene van ‘n ander planeet af kom (1 Petrus 2:11).  Hulle verstaan nie as jy nie saam met hulle wil sondig nie (1 Petrus 4:4).  Johannes sê hulle ken óns nie, omdat hul nie vir Jesus ken nie (3:1).

 

Jesus is God se Geliefde (Matteus 17:5, Efesiërs 1:6) en in Hom is ons ook geliefdes van God (3:2). In Hom is ons reeds kinders van God (3:2).  Ons is egter nog nie volmaak nie.  Maar ons sal wees as Jesus kom en ons Hom in heerlikheid sien (3:2, 2 Tessalonisense 1:10, Johannes 17:24, Openbaring 22:4, Romeine 8:29).  Ons sal ‘n nuwe liggaam soos syne kry en volmaak heilig wees soos Hy (3:2, Filippense 3:20-21, 1 Korintiërs 15:51-52).  By sy eerste koms het Hy die papiere vir ons aanneming voltooi.  By sy tweede koms sal Hy ons vir ewig in sy huis inneem (Romeine 8:23).

 

Iemand wat hierdie vooruitsig het en aanhou hoop, sal aanhou om homself te reinig soos wat Hy rein is (3:3, Gk., 2 Petrus 3:14, Kolossense 3:4-5). Hy sit nie passief en wag om rein te wees (3:2), maar streef daarna (3:3, Filippense 3:14).

 

Iemand wat nie die erns van Jesus se tweede koms verstaan nie, sal nie ernstig wees om in die hede heilig te lewe nie. Hy sal homself nie daarvoor voorberei nie.  So iemand sal wees soos ‘n persoon wat met denims by ‘n formele dinee opdaag en uit voel.  As hy vooraf geweet het dit is so ‘n groot geleentheid, sou hy sy planne beter gemaak het.

 

Kry daarom ‘n Bybelse verstaan van hoe groot Jesus se tweede koms is, en wat daar gaan gebeur:

 

  • Jesus gaan onverwags kom soos ‘n dief wat in die donker nag in jou huis inbreek (2 Petrus 3:10).
  • Die Aartsengel gaan ‘n trompet so hard blaas dat jou oordromme wil bars (1 Tessalonisense 4:16, vgl. Eksodus 19:16, 20:18).
  • Jesus gaan op donker stormwolke kom soos ‘n ridder op sy oorlogperd (Openbaring 1:7, vgl. Psalm 18:8-16).
  • Hy sal in vuur en vlam verskyn met sy Vader se heerlikheid en biljoene engele (2 Tessalonisense 1:7-8, Matteus 25:31).
  • Die son, maan, sterre en planete sal smelt en ontplof (2 Petrus 3:10, 12).
  • Elke man, vrou, seun, en dogter sal voor sy troon staan. Hy sal elkeen se lewensboek uithaal en hulle oordeel volgens wat daarin geskryf staan (Openbaring 20:12-13).
  • Dié wat in sonde geleef het, sal Hy vir ewig in die hel gooi. Christene se heilige lewens sal bewys dat hulle die ware Jakob is. Hulle sal vir ewig saam met Hom op die nuwe aarde wees (Matteus 25:46).

 

Laat hierdie en ander waarhede oor die wederkoms jou dryf om jouself te reinig soos wat Hy rein is (3:3). Hoe doen ‘n mens dit?

 

[1] Bely jou sonde en bekeer jou (1:9, 2 Timoteus 2:21-22, Jakobus 4:8, Matteus 23:25-26, Psalm 51:9, 12).

 

[2] Verstaan en gehoorsaam die Bybel (Psalm 119:9, Johannes 15:3, Efesiërs 5:26, 1 Petrus 1:22, 2 Korintiërs 7:1).

 

[3] Moenie met die wêreld meng nie (Jesaja 52:11).

 

[4] Aanvaar God se tugtiging (Daniël 11:35, Hebreërs 12:10).

 

[5] Glo in Jesus en sy evangelie (Handelinge 15:9).

 

Jy móét jouself so reinig en in die lig van sy tweede koms leef, want sonder ‘n heilige lewe sal niemand God sien nie (Hebreërs 12:14).

 

Jy lewe in die lig van Jesus se eerste koms (3:4-10)

Shaun het ‘n moord gepleeg en sit al vir 15 jaar in die tronk. Die mense wat hom besoek, die tronkwagte, en die ander gevangenes dink hy is mal.  Hy sê vir almal die regter het hom onskuldig bevind en hy is vry.  Sy lewe agter tralies wys duidelik dat die regter hom skuldig bevind het, en tot ‘n lewenslange tronkstraf gevonnis het.  Iemand wat sê hy is gered maar in sonde leef, is soos Shaun.  Dit is onmoontlik dat iemand wat in die boeie van sonde is terselfdertyd vry kan wees.  Of is Jesus ‘n Redder wat nie red nie?

 

As jy aanhou sondig (Gk.) is jy wetteloos (3:4). Die wêreld is so:  hulle lewe asof daar geen wet is nie.  Die ware gelowige is lief vir God se wet (Romeine 7:22) en is nie wetteloos nie.  As Jesus gekom het om ons sonde weg te neem (3:5, Johannes 1:29), kan geen ware gelowige daarin lewe nie.  Jesus het nie gekom om die asblik van sonde leeg te maak, sodat ons dit net weer kan vol maak nie.

 

Jesus het geen sonde in Homself nie (3:5, 1 Petrus 2:22, Hebreërs 4:15, Johannes 8:46, 2 Korintiërs 5:21). Dus is Hy die perfekte Lam wat ons sondes wegneem.  As jy in die sondelose Jesus bly, kan jy nie met jou sonde aanhou nie (3:6, Gk.).  Wie in sy sonde aanhou het Hom nie met die oë van geloof gesien nie, en ken Hom nie (3:6).  ‘n Christen en ‘n goddelose persoon se lewens lyk nie min of meer dieselfde nie, maar verskil soos wat lig van donker verskil (3:6).

 

Ware Christene kan egter mislei word en moet oppas (3:7). Die vals leraars het gesê jy kan regverdig wees, al leef jy nie so nie.  Dit is onwaar (3:7, 2:6).  Iemand wat in sonde aanhou is die duiwel se kind (Johannes 8:44).  Die duiwel sondig al van die begin af en is pure sonde (3:8).  Hy het gesondig voordat hy uit die hemel uitgeskop is (Jesaja 14:13-14, 1 Timoteus 3:6).  Hy het in die begin vir Adam en Eva versoek om teen God te sondig (Johannes 8:44, Genesis 3).  In sy lewe het Jesus die duiwel se werke verbreek (3:8, Matteus 4:1-11).  In sy kruisdood het Jesus hom oorwin en sy kop vermorsel (Kolossense 2:14-15, Genesis 3:15, Johannes 12:31, Hebreërs 2:14-15).  Eendag sal Hy die duiwel in die hel gooi, sodat daar geen meer sonde, dood, rebellie, wêreldsgesindheid, vals lering, versoeking, en vervolging is nie (Openbaring 20:10).

 

Jesus help nou al dat sonde nie ons baas is nie (Romeine 6:14), en ons reg kan lewe. Geregtigheid en nie sonde nie, kenmerk die ware gelowige se lewe (3:7-9).  Jy is uit God gebore.  Die saad van God en sy Woord is in jou soos wat ‘n pa se DNA in sy kind is (3:9, 2 Petrus 1:4, 1 Petrus 1:23).  Die kind lyk soos sy ouer, en so lyk die gelowige se regverdige karakter soos God s’n (3:9).  God se saad bly in jou (3:9):  jy kan nie jou redding verloor en die duiwel se kind word nie.  Volgens Johannes is dit duidelik wie God se kinders is, en wie die duiwel se kinders is.  God se kinders leef regverdig en is lief vir die broers (3:10, 4-9, 11-24).  Vir Johannes is dit swart of wit.  Johannes glo nie in yin yang nie.  Jy is God se kind of die duiwel s’n.  Jy kan nie ‘n bietjie van beide wees nie (3:10).

 

Moenie die sonde liefhê waarvoor Jesus gesterf het nie. Moenie ‘n slaaf wees van die bose werke wat Jesus verbreek het nie (3:8).  As wetteloosheid jou lewe opsom is jy ongered (3:4).

 

Beswaar #1: ‘Ek ken ongelowiges wat nie goddeloos en wetteloos leef nie, maar opreg is.  Die ongelowiges wat ek ken leef beter as party Christene.’  Wie is die Christene wat jy ken, en is hulle regtig Christene?  Verder moet jy onthou dat jy nie die ‘opregte’ ongelowige se hart, gedagtes, motiewe, en geheime lewe ken nie.  Wat vir jou soos ‘n egte diamant lyk is dalk nagemaak.

 

Beswaar #2: ‘Ek sukkel met ‘n gewoonte-sonde.  Beteken dit ek is ongered?’  Nie noodwendig nie.  Natuurlik moet jy jouself ondersoek (2 Korintiërs 13:5).  Haat jy die sonde waarteen jy stry, en is jy hartseer omdat dit die Heilige Gees bedroef?  Wat weeg by jou die swaarste as jy sonde en gehoorsaamheid in die weegskaal sit?  Hoe lyk jou lewe in die geheel:  is dit sonde of gehoorsaamheid wat soos ‘n seer duim uitstaan?

 

As jy gered is en met ‘n gewoonte-sonde sukkel, sê jy dalk jy kán dit nie wen nie. Dit is ‘n leuen.  Deur Jesus se kruisdood en die Heilige Gees se krag, kán jy hierdie sonde doodmaak (3:8, Romeine 8:13, 6:14).  Dit is verkeerd om te sê:  ‘Ek is maar net ‘n mens… Niemand is perfek nie… Dit is normaal om te sondig.’  Vir ‘n Christen is dit abnormaal en teen sy karakter om te sondig (3:9).  As sonde normaal is en jy dit nie probeer uitroei soos wat die VSA se weermag met terroriste doen nie, is jy ongered.  Pasop tog dat jy nie dink haat vir sonde en ‘n regverdige lewe red jou nie.  Hierdie dinge is net die bewys van jou redding, nie die oorsaak daarvan nie.

 

Wys Johannes se toets dat jy ongered is? Hoe kan jy gered word?  Bring jou sonde na God toe en sê jy soek dit nie meer nie.  Bring ook jou eie pogings om gered te word, en erken dat dit jou nie kan red nie.  Glo dat Jesus die straf vir sondaars op Homself geneem het aan die kruis.  Erken dat Hy jou enigste hoop is.  Vra dat God jou sal red en jou sondes sal vergewe.  Jou veranderde lewe sal baie gou wys dat jy weergebore is.

 

Gestel die Amerikaanse regering sê dat alle landsburgers moet seker maak hulle papiere en ID kaarte is reg. Immigrasie werkers gaan by elke huis aanklop om te kyk dat dit reg is.  As jy onwettig in die land is, sal daar gevolge van deportasie, boetes, en tronkstraf wees.

 

Vyftien jarige Mary is ‘n landsburger, maar twyfel of sy die regte papiere het en of sy regtig ‘n Amerikaanse burger is. James is onwettig in die land, maar oortuig homself dat hy die regte papiere het en nie die wet oortree nie.  Peter is min gepla:  hy weet hy is onwettig in die land, maar sê hy sal die regering aanvat en wen.

 

So is mense as dit by weergeboorte kom. Party is weergebore, maar twyfel.  God wil hulle troos.  Party is oortuig hulle is weergebore, maar is nie.  Vir hulle wil God wakker skud en sê:  ‘Die skip sink – jy moet weergebore word!’  Party hoor van weergeboorte, maar gee nie om nie.  Vir húlle sê God:  ‘as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.’ (Johannes 3:3).

Is jy gereed om God te ontmoet?

GloryToe ek 16 was het ek in ‘n slaghuis gewerk.  Die yskaste en vloere moes altyd skoon wees en die vleis vars, omdat die gesondheidsinspekteur enige tyd kon instap.  Alhoewel Jesus altyd in ons midde is, is dit ook so dat Hy soms spesiaal kom om ons te seën, en uiteindelik in lewende lywe sal terugkeer om by ons te wees.  Dit sal tragies wees as ons nie gereed is om ons Eregas te ontvang nie.  In Eksodus 35-40 het ons ‘n voorbeeld van hoe om gereed te kry om Hom te ontmoet.

 

Die materiaal vir die tabernakel (35:1-29)

Leon en Frans is twee boere in die Vrystaat. Omdat daar nie ‘n teken van reën in die lug is nie, voel Frans dis onnodig om sy trekkers en besproeiing in stand te hou, sy skure op te knap, om diesel, bemesting, en saad aan te koop.

 

Leon spandeer honderde duisende rande om alles reg te kry voordat die reën kom. Hy weet hy kan nie reën maak nie, maar hy bid dat dit kom.  Toe die reën kom, het Frans homself in ‘n gemors gevind.  Leon was gereed vir die groot oes.  Skielik was die geld wat hy moes uithaal niks nie, omdat die oes vir hom R15 miljoen ingebring het.

 

Soos Leon moet ons besef ons kan nie maak dat die Heilige Gees in ‘n magtige herlewing soos reën neerdaal nie. Ons kan nie maak dat Jesus weer kom en vir ons ‘n ryk beloning gee nie.  Maar ons kan baie geld bydra sodat die evangelie versprei word.  As die Heilige Gees in herlewing kom of Jesus terugkeer, sal ons gereed wees.  In daardie oomblik sal jy nie omgee oor die geld wat jy moes uithaal vir evangelisasie en sending nie.  Saam met David Livingstone sal sê:  ‘I never made a sacrifice.’  Dan sal jy besef dat die geld wat jy vir die evangelie gegee het glad nie ‘n opoffering was nie, maar ‘n baie slim belegging (Matteus 6:20).  In hfst.35 het die volk met vrywillige harte gegee, omdat hulle oortuig was dat God se teenwoordigheid in hulle midde iets baie spesiaal sal wees.

 

Hfst.35-39 is ‘n uitvoering van die bloudruk wat God in hfst.25-31 gegee het. Ek het die tabernakel reeds in detail bespreek en sal dus in hierdie preek net ‘n oorsig gee.

 

Toe Moses die eerste keer met die bouplanne van die berg afgeklim het, was die volk besig om die goue kalf te aanbid (hfst.32). God het gesê dat Hy nie meer in sy volk se midde sou wees nie.  Moses het vir die volk ingetree.  God het hulle vergewe en sy verbond met hulle vernuwe (hfst.34).  Hy het die planne vir die tabernakel gegee en gesê dat die volk dit mag bou (35:1).

 

Voor enigiets anders moes die volk die Sabbat gehou het as ‘n teken van God se hernude verbond met hulle (35:2, 31:16, 34:1, 10, 28). Selfs aan die tabernakel mag hulle net ses dae gewerk het, en moes hulle op die sewende dag rus (35:2).  Op die Sabbat mag hulle nie ‘n vuur gemaak het om metale te smelt vir die bou van die tabernakel nie (35:3).  Die volk het met vrywillige harte gewerk en gegee vir die bou van die tabernakel (35:5, 10, 20-22, 24-26, 29, 2 Korintiërs 9:6-7).  Die goud wat hulle gegee het sou nie weer vir ‘n kalf gebruik word nie (32:3-4), maar om die tabernakel te bou (35:22).

 

As jy vir die Here se werk bydra, moet jy dit doen met ‘n verwagting dat Hy met ons sal ontmoet. Dit is reg om geld vir strukture te gee.  Moet egter nie miljoene belê om skure te bou, terwyl jy niks uithaal vir die mielies wat in die skure moet kom nie.  Hou die kerkgeboue in stand.  Maar moenie meer geld spandeer op bakstene, verf, of ander administrasie, as op ‘n poging om mense vir die Here te wen nie.  Fokus op die groei van die mense wat in die gebou sit, eerder as op die gebou self.  Hoe doen ‘n mens dit?

 

  • Dra by vir die Groenewalds in Peru. Kyk ook of jy iets kan gee vir Herman Swart en Nico van Zyl wat in Tembisa werk.
  • Koop vir jou goeie traktaatjies (bv. Livingwaters se traktaatjies of Ultimate Questions van John Blanchard). Hou dit in jou kar of handsak. Kom in die goeie gewoonte om ‘n traktaatjie te gee as jy petrol ingooi, by ‘n restaurant eet, vir die karwag geld gee, ‘n siek persoon in die hospitaal besoek, by die tolhek stop, ens.
  • Haal geld uit vir goeie boeke, DVD’s, audio CD’s van die preke. Deel dit met kollegas wat swaarkry of vrae het. Hulle is in sulke tye meer vatbaar vir die evangelie. Moenie die kans mis nie.
  • Sit geld eenkant vir ekstra kos. Nooi dan ongelowige vriende, familie, bure, of kollegas vir ete. Praat oor wat jy in die Skrif en die preke leer. Vra hulle opinie daaroor. Moenie stry nie. Verwys hulle na die blog toe. Kom in die gewoonte om hulle saam te nooi kerk toe.

 

As daar oor vyf jaar 40 mense is wat Jesus leer ken het, as Jesus kom en jy het 50 of meer mense met die evangelie beïnvloed, sal jy nie dink jy het R10 000 of 20 000 ‘gemors’ nie. Jy sal bly wees vir die klein bydrae wat jy kon maak.  Jy sal gereed wees om die Here te ontmoet.

 

Watse vreugde sal jy hê as jy jou geld net gebruik het om jouself te verryk, en niks bygedra het vir God se werk nie? As die herlewing of Jesus kom, sal jy jou blydskap nie volkome wees nie, maar jy sal jou kop in skaamte sak.

 

Die konstruksie van die tabernakel (35:30-39:31)

Ek is reeds elf en ‘n half jaar in hierdie gemeente en voel gefrustreerd, omdat dit lyk of die kerk nie vooruit gaan nie. As daar vyftien nuwe mense bykom, is daar drie wat sterf, vyf wat bedank, een wat in sonde val, twee wat trek, vier wat uitsak.  Ons bid vir herlewing, maar wat die algemene patroon van God se werk in die geskiedenis betref, dink ek dink Erroll Hulse is reg:  ‘Reformation before revival’.

 

God wil hê ons moet voorberei om Hom te ontmoet. Josia, die volk onder Nehemia, en Israel in Eksodus 35-40 moes alles regkry voordat God in heerlikheid neergedaal het.  Natuurlik moet ons aanhou bid vir herlewing en groei, maar ons kan nie passief rondsit totdat dit gebeur nie.  Ons moet die lande bemes, ploeg, en saai:  gebruik jou gawe om die liggaam op te bou.

 

God het gesê dat Besaleël, Oholiab, en hulle helpers presies moes bou volgens die plan wat Hy vir Moses op die berg gegee het (36:1). Hulle het dit vrywillig, vreugdevol, en uit hulle harte gedoen (36:2).  Die volk het so baie gebring, dat Moses hulle moes stop (36:3-7).  Hulle het die tabernakel se bedekking gemaak, die ark, die tafel vir die toonbrode, die kandelaar, die wierook altaar, die brandoffer altaar, die koper waskom, en die binnehof.  Soos ‘n goeie rentmeester, het Moses rekord gehou van elke bydrae:  ‘n ton goud, 3.4 ton silwer, 2.4 ton koper.  In hfst.39 het hulle die priesters se klere presies volgens God se plan aan Moses gemaak (hfst.28, 39:1, 5, 7, 21, 26, 29, 31, 32, 42, 43).

 

Soos hulle aan die Ou Testament tabernakel gebou het, moet ons bou aan die Nuwe Testament tempel, die kerk (1 Korintiërs 3:16). God wil hê ons moet bou met die verwagting en smeking dat Hy ons sal besoek.  Moenie dien omdat jy skuldig voel, of omdat jy jammer voel vir my frustrasie nie.  As jy so dien sal jy ophou sodra jy nie meer skuldig voel nie, of sodra ek jou kwaad maak en jy my nie meer bejammer nie.  Dien omdat God se genade in jou hart werk, omdat jy besef jy kan nie net sit nie – jy moet dien.

 

Moenie self slim dinge wil uitdink om te doen nie, maar werk soos die volk volgens God se bloudruk. Hy wil hê jy moet jou gawe gebruik en die tempel opbou.  Bid vir God se krag en wysheid om ‘n visser van mense te wees wat die Nuwe Testament tempel opbou.  “Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag.” (Kolossense 1:28-29).

 

Gebruik wat jy goed kan doen om ongereddes te wen en gelowiges op te bou:

 

  • Gasvryheid
  • Goed werk met kinders
  • Die preke op ‘n webtuiste sit
  • Bybelse lirieke en gedigte skryf
  • Mense beraad en bemoedig
  • Help met die administrasie van uitreike (advertensies, uitnodigings maak)
  • Finansiële bydraes
  • Getrou bid
  • Organisering
  • ‘n Leier wees wat mense aanspoor
  • Iets anders

 

Besef asseblief voorbereiding kan nie waarborg dat God in ‘n herlewing sal neerdaal nie. Die Gees is soewerein (Johannes 3:8).  God het ook nie ons voorbereiding nodig om te werk nie.  Tog wil Hy hê ons moet ophou met die sonde wat Hom bedroef (hfst.32), doen wat reg (Openbaring 3:2), hard bid, en die kerk opbou.  Dit sal sleg wees as Hy kom en ons nie gereed is nie.  As ons nie gereed is nie, besluit Hy dalk om teen ons te kom (Openbaring 3:3).  Dit sal ‘n ramp wees.  Dien eerder getrou.  Dan sal Hy nie sê dat jy ‘n slegte dienskneg is nie, maar ‘n goeie en getroue dienskneg wat beloon moet word (Matteus 25:23, 26-30).

 

Die voltooiing van die tabernakel (39:32-40:38)

Jack is die direkteur van ‘n groot maatskappy. Hy sê vir die sekretaresse om ‘n vier ster gastehuis uit te boek vir ‘n twee dag seminaar.  Toe die gaste aankom was alles geboek, die beddegoed gewas, en die kamers gestofsuig.  Maar die personeel het nog geskarrel om die beddens op te maak.  Toe die gaste uiteindelik in die kamers ingeboek het, was daar probleme.  Een kamer het koffie gehad, maar nie suiker nie.  ‘n Ander kamer se ketel het nie gewerk nie.  ‘n Ander kamer se waaier het uitgebrand.  ‘n Ander kamer se warm kraan was eintlik die koue kraan.  By aandete was die skaapvleis en malvapoeding op voordat almal kon skep.  Een gas se vurk was vuil.  Toe die gaste gaan slaap het, was een gas se vensters vasgeverf, sodat hy dit nie kon oopmaak nie.  Jy kan raai dat Jack nie bereid was om die volle rekening te betaal nie, en dat hy in die toekoms nie weer van die gastehuis gebruik sou maak nie.

 

Net so stel God nie belang in ‘n Ou Testament tabernakel of Nuwe Testament ‘tempel’ wat nie is soos wat Hy beveel het nie. God sal ons net seën en tot ons neerdaal as ons sy bevele uitvoer (39:43, 40:34-38).  Dit is basies die punt van 39:32-40:38.

 

Die volk het die tabernakel en alles daarin voltooi (39:32). Hulle het alles voor Moses gebring (39:33-41).  Hy moes kyk dat dit volgens plan was, en het toe die volk geseën (39:43).  Byna een jaar na die uittog, het Moses die tabernakel opgeslaan (40:1-2):  die ark met die voorhangsel, die tafel met die brode, die kandelaar met sy lampies, die wierook altaar, die gordyn vir die ingang, die brandoffer altaar buite die tabernakel, die waskom tussen die altaar en die tabernakel, die heining rondom die binnehof met sy ingang (40:3-8).

 

Toe alles opgeslaan is, het Moses dit met olie gesalf om dit vir God af te sonder (40:9-11). Hy het ook Aäron en sy seuns voor die tent se ingang gewas, geklee, en met olie gesalf (40:12-15).  Net soos die volk, het Moses alles gedoen volgens God se bevel (40:16, 19, 21, 23, 25, 27, 29, 32).  Hy het die kliptafels in die ark gesit, die brode op die tafel, die lampies aangesteek, wierook op die goue altaar gebrand en brand offers op die koper altaar, en water in die waskom gesit (40:20, 23, 25, 27, 29, 30).

 

Voordat Moses, Aäron, en sy seuns offers kon bring of in die tent ingaan, moes hulle hul hande en voete gewas het (40:31-32). Die helder wolkkolom het op die tabernakel neergesak, sodat nie eers Moses daar kon ingaan nie (40:34-36, 1 Konings 8:10-11, Openbaring 15:8).  As die wolk opgestyg het moes die volk trek, en as dit neergedaal het moes hulle stop (40:36-37).  Vir 40 jaar was daar in die dag ‘n wolkkolom oor die tent, en in die nag ‘n vuurkolom (40:38).

 

Om God se heerlike teenwoordigheid en seën te beleef, moet ons reg doen. Sou God die volk geseën het en neergedaal het, as die tabernakel 95% reg was?  Wat as Moses alles volgens plan gebou het, maar besluit het die ark lyk beter in die binnehof?

 

God wil nie hê jy moet tevrede wees dat die meeste van jou lewe reg is nie; dat die meeste van die dinge in ons gemeente reg is nie.  Moses moes presies volgens plan bou (40:16).  Volg sy voorbeeld.  God weet jy sal nie op aarde sondeloos wees nie.  Maar jy kan onberispelik wees soos Daniël (Daniël 6:4), soos Josia wat nie links of regs van God se wet afgewyk het nie (2 Kronieke 34:2).  Moenie soos party konings wees wat die Here gedien het, maar nie met hulle hele hart nie (1 Konings 15:4); wat alles reg gedoen het, behalwe… (2 Konings 15:4).  Moenie soos vier van die sewe gemeentes in Openbaring 2-3 wees nie:  ‘Jy doen a, b, en c reg, maar Ek het dít teen jou…’

 

Is daar verkeerde dinge in jou lewe of in die gemeente wat ons moet regstel voordat die Here ons sal seën en tot ons neerdaal? Wat is daardie dinge?  Is dit sonde en ongehoorsaamheid (hfst.32), eenheid in die gemeente (Psalm 133:1, 3), biddeloosheid (Jakobus 4:2), liefde vir die wêreld (Jakobus 4:4), hoogmoed (Matteus 5:3), bose vriende (Psalm 1:1), ‘n onrein hart (Psalm 24:4-5), wat?  Bely dit en stel dit reg, en God sal na jou siel en die gemeente toe kom.

 

Hoekom moet ons reg doen? Gehoorsaamheid self bring blydskap nog voordat daar enige beloning is.  Hierdie blydskap  vermenigvuldig as God op ons neerdaal.

 

Na meer as ‘n jaar is ons klaar met Eksodus. Wat is die hoogtepunt van die boek?  Is dit die tien plae?  Of dalk die Rooisee of die Tien Gebooie?  Glo dit of nie, maar dis die tabernakel.  Dit is hoekom God hulle in die eerste plek uit Egipte gered het:  om in hulle midde te wees.  In hfst.32 (die goue kalf) het hulle byna sy teenwoordigheid verloor.  Genadiglik het Hy hulle vergewe en in hulle midde kom woon.

 

In die Nuwe Testament het Hy mens geword om sy skape te red en onder ons te ‘tabernakel’ (Johannes 1:14, Gk.). Deur sy Gees is Hy met ons (Johannes 14:23, Efesiërs 3:17), en eendag kom Hy weer om vir ewig sy ‘tabernakel’ in ons midde op te slaan (Openbaring 21:3, Gk.).  Is jy gereed om Hom te ontmoet?

Wat om te verwag as Jesus weer kom

Second Coming

Wat is die gebeurtenis in die toekoms waarna jy die meeste uitsien? Jou verjaarsdag?  Iemand se partytjie?  Kersfees?  ‘n Geskenk, ‘n nuwe kar, ‘n nuwe huis?  Vriende of familie wat kom kuier?  Dat die skole of jou besigheid sluit vir die jaar?  Vakansie?  Jou troudag?  Die geboorte van jou kind of jou kleinkind?

 

Ek wonder hoeveel Christene in Suid-Afrika kan eerlik sê dat hulle meer as enigiets anders uitsien na Jesus se wederkoms? Hoe gereeld dink ons nog aan die wederkoms en verlang ons daarna?  Bid ons nog gebede soos:  ‘Laat u Koninkryk kom… Maranata, kom Here Jesus’ (Matteus 6:10, 1 Korintiërs 16:22, Openbaring 22:20)?  Dit is byna of ons nie regtig glo Jesus kan vandag kom nie.  Die Skrif sê ons moet sy koms verwag, en glo sekere dinge gaan gebeur as Hy weer kom.  Wat is daardie dinge?  1 Korintiërs 15:50-58 sê vir ons.

 

Jou liggaam sal verander word (v.50-53)

‘n Paar jaar gelede het ‘n ateïs op Facebook gesê daar is niks ná die dood nie, en dat die dood dus die lewe oorwin.  Hy het gesê die dood alleen is seker.  Soos ‘n goeie evolusionis het hy geglo dat die aaklige, tragiese, pynlike, en vervloekte dood ‘n normale deel is van die lewe.

 

Die Skrif leer anders. Die dood is abnormaal en het gekom as ‘n straf op sonde.  Jesus het egter opgestaan en sal ons ook opwek.  Almal sal nie sterf nie, en in die hemel sal daar nie meer dood wees nie.  M.a.w. die lewe oorwin oor die dood (Johannes 11:25).  So leer Paulus in v.50-53.

 

Vlees en bloed kan nie die Koninkryk in besit neem nie (v.50). Dit beteken nie ons sal ‘n gees wees sonder ‘n liggaam nie.  Na sy opstanding was Jesus nie ‘n spook nie (Lukas 24:39), en volgens Filippense 3:21 sal ons opstandingsliggame soos syne wees.  ‘Vlees en bloed’ in v.50a verwys na ons sterflike of verganklike liggame (v.50b, Hebreërs 2:14).  Ons aardse liggame is nie geskik vir die heerlikheid van die hemel nie.  As jy God se heerlikheid in hierdie liggaam moet sien, sal jy sterf (Jesaja 6:5, Esegiël 1:28, Daniël 10:8-11, 17, Matteus 17:6, Handelinge 9:4, Openbaring 1:17).  Om in ‘n onverganklike wêreld te lewe, benodig jy ‘n onverganklike liggaam en siel (v.50, Johannes 3:3, 5).

 

Wat vir eeue ‘n geheim was, het God deur Paulus geopenbaar (v.51, vgl. Efesiërs 3:3-6, 9, Romeine 16:25, Kolossense 1:26 vir hierdie verstaan van ‘geheimenis’).  Wat is die geheimenis?  Soos Elia en Henog, sal nie almal sterf nie.  Maar almal sal gelyk verander word (v.51, 1 Tessalonisense 4:15).  Dit sal gebeur in ‘n oomblik, in ‘n breukdeel van ‘n sekonde.  Die Griekse woord atomos verwys na iets wat nie verdeel kan word nie.  Dit sal so gou gebeur soos wat jy jou oog knip, lig van jou oog af weerkaats, ‘n muggie se vlerke beweeg, ‘n ster skitter, ‘n harpsnaar vibreer [Gk. rhipe, v.52].  As God jou nuwe liggaam maak, sal Hy nie tyd neem soos toe Hy Adam uit die stof gemaak het, of Eva gemaak het terwyl Adam geslaap het nie.

 

Die verandering sal plaasvind as die laaste trompet blaas om die Koning se koms aan te kondig (v.52, 1 Tessalonisense 4:16, vgl. Numeri 10:1-10). Die dooies sal onsterflik en verheerlik uit hulle grafte opstaan (v.52, Johannes 5:28).  Die verheerlikte lewendes en dooies sal saam in die lug opstyg.  Hulle sal vir Jesus in die lug ontmoet om Hom as eregas te verwelkom, en sal Hom dan na die nuwe aarde toe vergesel (1 Tessalonisense 4:17).

 

Die Griekse woord wat in die lg. vers met ‘ontmoet’ vertaal word, word net op twee ander plekke gebruik. In Handelinge 28:15 en Matteus 25:1, 6 gebruik die Bybelskrywers dit om te praat van ‘n tradisie in die eerste eeu.  As gaste kom kuier, wag jy nie vir hulle by jou huis nie.  Jy gaan ‘n entjie uit die dorp uit om hulle dáár te ontmoet, en vergesel hulle dan terug na jou huis toe.  Dis die idee wanneer die Skrif sê dat ons Jesus in die lug sal ontmoet:  ons sal Hom dáár ontmoet en Hom na die aarde toe vergesel.  Die nuwe Jerusalem sal uit die hemel neerdaal; dan sal ons almal vir ewig op die nuwe aarde bly (Openbaring 21:1-2, 10).

 

God sal ons verganklike liggame soos ou klere uittrek, en vir ons onverganklike liggame soos nuwe klere aantrek (v.53, 2 Korintiërs 5:2-4). Ons sal verheerlikte liggame kry wat nie kan sterf of vergaan nie (v.53, Lukas 20:36).

 

Watse les moet ons uit hierdie verse leer? Verwag Jesus se wederkoms en die opstanding van jou liggaam.  Moenie so besig raak of gemaklik wees in die wêreld dat jy daarvan vergeet nie.  Bid gereeld:  ‘Onse Vader…Laat u Koninkryk kom’.

 

Aan die anderkant moet jy pasop dat jy nie deur DVD seminare, films, boeke, en preke obsessief raak met die detail van die 666, die een wêreld orde, die vier perde, die wegraping, die illuminati, die 144 000, Armageddon, die sewe jaar verdrukking, die bloed mane, die diere in Openbaring, ens. nie. Moet ook nie die datums van hierdie dinge of die wederkoms wil uitwerk, of mense glo wat dit doen nie (kultusse is veral lief hiervoor, en dit raak deesdae ook populêr onder charismate).  Jesus het gesê:  “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” (Matteus 24:36).

 

Tog moet ons nie die lering oor die wederkoms, die opstanding, of die boek Openbaring vermy, omdat dit moelik is om te verstaan, of omdat jy bang is nie. Ek is seker jy verstaan meer as wat jy dink.  Al verstaan jy nie die detail nie, weet jy ten minste:

 

  • Jesus kom weer op die wolke (Handelinge 1:9-11).
  • Jesus kom skielik en onverwags soos ‘n dief in die nag (Matteus 24:42-44).
  • Jy sal Hom sien (Openbaring 1:7).
  • Jy sal ‘n nuwe liggaam kry (v.50-53).
  • Jesus sal die wêreld oordeel (Openbaring 20:11-15).
  • Daar is ‘n ewige hemel en ‘n ewige hel (Matteus 25:46).

 

Leef hoopvol in die lig hiervan, vertroos mekaar hiermee, en spoor mekaar aan om te volhard (1 Tessalonisense 4:18, Hebreërs 10:24-25).

 

Moenie dat die afwagting op Jesus se koms maak dat jy nie kinders wil hê of trou nie, lui is en ophou werk, of weier om langtermyn planne te maak nie. Jou afwagting moet eerder daartoe lei dat jy jou sonde los, gebroke verhoudings herstel, en jou van jou dwaalweg bekeer (2 Petrus 3:11, 14, 1 Johannes 2:28).  As jy nie in die wederkoms en opstanding glo nie, is jy hopeloos.  Watse hoop is daar as jy glo Suid-Afrika gaan vir altyd so bly?

 

Die dood sal vernietig word (v.54-57)

Aan die einde van sy lewe het Martyn Lloyd-Jones vir ‘n vriend gesê: ‘Don’t underestimate dying! Death is “the last enemy”.  Men may live well who do not die victoriously.’[1]  John Piper het eenkeer gesê:  ‘I don’t fear death; I fear dying.’  Ek het ‘n vriend wat baie lief is vir Jesus.  Hy het onlangs gesê hy dink hy sal onseker wees op sy sterfbed, en in ‘n groot stryd sterf soos Christian in Pilgrim’s Progress.  Hoe moet ons die realiteit van die dood benader?  Paulus help ons in v.54-57.

 

As God ons liggame verander, sal Hy die laaste van die Ou Testament profesieë vervul. Hy sal die dood op ‘n sterfbed gooi, begrawe, in die hel insluk, en finaal vernietig (v.54, Jesaja 25:8, Openbaring 20:14).  Die dood bedek mense soos ‘n laken en soos ‘n skaduwee (Jesaja 25:7).  God sal die trane wat deur die dood veroorsaak is, afvee (Jesaja 25:8, Openbaring 21:4).  Ons sal dan vir ewig feesvier (Jesaja 25:7).

 

Voorheen was die dood se plae en giftige angel ‘n straf op ons sonde (Hosea 13:14). Die wet vereis die dood as ‘n straf op sonde (v.56, Genesis 2:17, Romeine 5:12, 6:23).  Wie sal ons van hierdie fisiese en ewige dood red?  Die wet is goed, en kan deur sy vreeslike straf ons sonde inperk.  Die wet kan egter nie keer dat ons sonde begeer nie.  Inteendeel, sodra daar ‘n wet is, wil jou vlees dit oortree.  Dit is wat Paulus bedoel as hy sê sonde kry sy krag uit die wet (v.56, Romeine 7:5, 8, 4:15).

 

Maar ons prys God vir Jesus wat die wet perfek namens ons onderhou het, namens ons die straf gekry het wat die wet vereis, en vir ons verlossing die dood oorwin het deur sy opstanding. Deur geloof in Hom sal die dood ons nie oorwin nie, maar sal ons die dood oorwin in liggaam en siel (v.57, 54-55, Romeine 7:25).

 

Dink reg oor die dood, sodat jy God in lewe en dood kan verheerlik (Romeine 14:7-8).  Moenie die dood uit jou gedagtes uitskuif, dink dis vir ou mense, of dink dit sal weggaan as jy dit ignoreer nie.  Besef dat dit enige tyd kan kom.  Maak dan seker jy is gered, want anders sal jy ‘n ewige dood sterf (Openbaring 20:14-15).  Glo in Jesus, want dan sit die dood se angel in Hom en kan dit jou nie steek nie (v.55).  Vir jou sal die dood so skadeloos wees soos slaap (Handelinge 7:60).  Die dood sal vir jou wees asof jy aan die slaap raak en dadelik weer wakker word by Jesus (2 Korintiërs 5:8, Filippense 1:23, Handelinge 7:59, Lukas 16:22, 23:43).  M.a.w. jy verloor nie bewussyn wanneer jy sterf nie.

 

‘n Christen hoef nie die dood te vrees, sodat jy wens jy sterf in jou slaap of is opslag dood nie (Psalm 23:4, 116:15, Hebreërs 2:14-15, Openbaring 1:17-18, 2:10-11). ‘n Christen se dood is nie ‘n straf op sy sonde nie, maar ‘n oorgang na Jesus toe (Filippense 1:21).  Vir ‘n Christen byt die dood soos ‘n ou hond wat nie tande het nie.  By sy wederkoms sal Jesus die ou hond uitsit, sodat ons in die hemel vir ewig onsterflik sal wees (v.54, 26).

 

Jou harde werk sal beloon word (v.58)

Moeë Henry werk 13 ure per dag vir 6 maande. Hy byt vas en kla nie, want hy weet hy kry R1.6 miljoen as die werk klaar is.  Hy sweet met plesier soos Jakob toe hy vir sewe jaar moes swoeg om die beeldskone Ragel te kry.  Net so kan ons in die Here se diens hard werk, want ons weet dat die beloning oneindig keer groter sal wees as die werk wat ons ingesit het (v.58).  Die wederkoms, opstanding, en beloning is soos ‘n wortel voor die donkie se neus, sodat ons onbeweeglik vasstaan, nie opgee nie maar volhard, en oorvloedig en hard werk vir die Here (v.58, 3:8, 12-15, Galasiërs 6:9).

 

Party mense glo nie in belonings nie, maar die Nuwe Testament leer duidelik dat daar grade van belonings sal wees vir gelowiges op die oordeelsdag (Matteus 25:21, 28, Lukas 19:17, 19, 6:35, 14:13-14, 2 Korintiërs 5:10, Efesi:ers 6:8, 2 Johannes 8, Openbaring 11:18, 22:12). Maar sal dit nie jaloesie veroorsaak nie?  Nee.  Wie is jaloers by ‘n fees as party meer kan eet as ander, maar almal versadig is?  So ook sal party Christene by Jesus se koms ‘n groter beloning kry as ander, maar almal sal so bly wees soos wat hy moontlik kan wees.  Gaan vir goud!  Soek die prys!  By Jesus wederkoms sal jy nie spyt wees dat jy te veel vir Hom gedoen het nie (v.58).

 

Dink gereeld aan Jesus se glimlag en die beloning as jy moeg raak in sy diens en wil opgee. Werk hard.  Wwees oorvloedig in jou werk vir Hom.  Doen jou heel beste vir Jesus en moenie traag wees nie.  “Vervloek is hy wat nalatig is om die werk van die HERE te doen” (Jeremia 48:10).  George Whitefield het gesê:  ‘It is better to burn out for the Lord than to rust out.’

 

Soms sien jy nie dadelik die vrug op die geld wat jy vir die Here se werk gee, jou gebede, jou evangelisasie pogings, die Bybel lering wat jy vir kinders gee, die siekes wat jy besoek, die bemoediging en raad wat jy vir mense gee, jou geestelike leierskap, jou noukeurige administrasie, jou hulp aan die armes, jou diensbaarheid nie. Jy voel moeg en uitgeput.  Niemand sien jou harde werk raak of sê dankie nie.  Moenie ophou nie, maar volhard.  Hervat daardie taak waarmee jy opgehou het.  ‘Don’t resign, but re-sign.’ (Joel Beeke).  Jesus sien dit raak, hou rekord daarvan, en sal jou beloon as Hy weer kom.  Hy sal vir jou ‘n nuwe liggaam gee wat nooit moeg raak in sy diens nie.

 

In ‘n boek oor die wederkoms sê Spurgeon ons moet Jesus se koms verwag soos honde wat uitsien dat hulle base huistoe kom. As jy by hek die stop, is jou opgewonde honde daar om jou te verwelkom.[2]  Net so moet ons met vreugde uitsien en gereed wees dat Jesus kom.  Wanneer Hy kom, sal ons nuwe liggame kry, gaan die dood vernietig word, en gaan Hy ons beloon.  Ek hoop dis vandag.  Ek kan nie wag nie.

[1]  Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (vol.2), p.732

[2] The Second Coming of Christ, p.184